Print

Eskatologie – Die Leer oor die Laaste Dae

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Bybelse eskatologie is ‘n studie van profetiese uitsprake oor wat die toekoms vir die kerk van Christus, vir Israel én vir die ongeredde wêreld inhou.

Inhoud

Voorwoord

1. Die Verklaring van Bybelse Profesieë

2. Dispensasies in die Bybel

3. Profetiese Raamwerk in die Evangelies

4. Futurisme en Historisme

5. Die Nuwe Wêreldorde as ‘n Sataniese Komplot

6. Israel in die Raadsplan van God

7. Profetiese Program in Israel se Feeste

8. Die Belangrikheid van Jerusalem

9. Die Russies-Arabiese Inval in Israel

10. Profetiese Implikasies van die Verwerping van Jesus

11. Die Groot Betekenis van Israel

12. Die Herrysenis van Babilon

13. Die Wegraping

14. Groot Afval ná die Christene se Vertrek

15. Die Regterstoel van Christus

16. Die Antichris

17. Die Valse Profeet

18. Die Sewe Jaar van Verdrukking

19. Die Wederkoms

20. Die Millennium

21. Tekens van die Tye

Naslaanwerke

 

Voorwoord

Ter inleiding moet ons eers die vraag beantwoord waarom Bybelse profesieë belangrik is en waarom ons dit ter harte moet neem. Petrus sê:

“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:19-21).

Hieruit blyk vier baie belangrike beginsels:

1.   Eerstens het Bybelse profesieë ‘n vaste boodskap oor die toekoms. Petrus sê die profetiese woord is baie vas en ons móét daarop ag gee. Dit is nie menslike spekulasie nie, maar ‘n betroubare woord wat beslis in vervulling sal gaan omdat die hoogste gesagspersoon in die heelal, God self, hierdie woorde gespreek het.Heili

2.   Tweedens is Bybelse profesieë absoluut uniek en in ‘n kategorie van hulle eie. God het dit deur sy Heilige Gees aan mense bekend gemaak en in sy Woord laat opteken. Hierdie inligting moet van alle vorms van buite-Bybelse profesieë onderskei word. Buite-Bybelse profesieë dra nie ‘n goddelike stempel nie omdat hulle óf menslik óf selfs okkulties van oorsprong is. Profesieë van hierdie aard word nie van ‘n studie van die profetiese woord in die Bybel afgelei nie, maar het hulle oorsprong in drome, visioene, waarsêery, fortuinvertellery, vreemde stemme wat met mense praat, en ook buite-Bybelse profete soos Nostredamus en baie ander soos hy.  Dit lyk of elke volk maar sy eie profete het wat buite die Bybel om vir hulle profeteer oor wat hulle graag wil hoor. Soms word buite-Bybelse profesieë hier en daar aan die Bybel gekoppel om meer geloofwaardigheid daaraan te verleen – dan raak dit nog meer misleidend. Bybelse profesieë het net een oorsprong: “…deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” Die Bybelskrywers het onder die direkte inspirasie van die Heilige Gees hierdie profesieë uitgespreek en neergeskryf. Hierdie direkte openbarings het in die jaar 95, ná die skryf van die boek Openbaring, wat die laaste Bybelboek is, opgehou. Die volle raad wat God aan ons wil openbaar, is in die Bybel opgeteken – daarom moet ons net die Bybel vir inligting oor die toekoms raadpleeg.

3.   Derdens is Bybelse profesieë nie ‘n saak van eie uitlegging nie. Geen mens op aarde – al is hy ook hoe ver geleerd – kan self, volgens eie insig, die profesieë van die Bybel uitlê nie. Hierdie profesieë is deur die Heilige Gees gegee, daarom kan net Hý jou in die hele waarheid lei en aan jou verligte oë van die verstand gee om die betekenis van sy woorde te verstaan. Jy móét dus weergebore wees en onder die leiding van die Heilige Gees die Woord bestudeer voordat jy die ware betekenis daarvan sal begryp. Dit is opvallend dat mense wat nie die werklike betekenis van die profetiese woord begryp nie, daartoe oorgaan om vreemde uitleggings daarvan aan te bied. Omdat dit nie regtig vir hulle sin maak nie, besluit hulle om die profesieë nie ernstig en letterlik op te neem nie, maar om simboliese of allegoriese verklarings daarvoor te gee. In werklikheid is dit ‘n aanduiding van ongeloof in die profetiese woord, want hulle wil nie glo dat die wêreld al hoe slegter word in die eindtyd, dat Israel in tye van groot benoudheid en vyandigheid in hulle eie land herstel sal word, dat daar ‘n Antichris en ‘n groot verdrukking kom, dat die ware gelowiges die verdrukking sal ontvlug, en dat die Here Jesus ná sy wederkoms sy vrederyk op aarde sal vestig nie.

4.   Vierdens, sê Petrus, moet ons die profetiese woord bestudeer totdat die môrester in ons harte opgaan. Die môrester dui volgens Openbaring 22:16 op die Here Jesus, en meer spesifiek die feit dat Hy weer kom. Die môrester verskyn in die laaste nagwaak en verkondig die boodskap dat die nag byna verby is. Vir Christene is hierdie boodskap die toekomsverwagting dat Jesus Christus weer kom en hierdie keer as die son van geregtigheid die hele wêreld sal verlig en sy vrederyk hier sal vestig. Nou is dit, geestelik gesproke, nog donker, maar weldra sal die nag van ongeregtigheid en sonde verby wees en ewige geregtigheid heers. Het die môrester van hoop en die blye verwagting van Jesus se koms al in jou hart opgegaan? Indien nie, dan moet jy die Bybelse profesieë oor die eindtyd en die wederkoms intensief bestudeer. Sonder hierdie kennis kan jy nie daarop aanspraak maak dat jy ‘n ingeligte Christen is wat in alle opsigte in die lig wandel deurdat jy ook jou tydsomstandighede reg verstaan nie. Met die môrester in jou hart, maak jy joulself los van die huidige, goddelose wêreld en bou aan ‘n koninkryk wat nou nog verborge is maar binnekort op aarde geopenbaar gaan word wanneer die Koning kom.

Daar is ‘n spesiale seën vir almal wat die profetiese woord lees en ter harte neem. Johannes sê:

“Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Op. 1:3).

Iemand wat die profesieë bestudeer, en in hierdie geval spesifiek die boek Openbaring, word geseën met ‘n Bybelse perspektief op die eindtyd. Hierby inbegrepe is ‘n sterk verwagting dat Jesus Christus in mag en majesteit sal terugkom aarde toe, sy vyande by die slag van Armagéddon sal verdelg, die Antichris en die valse profeet in die vuurpoel sal werp en die duiwel in ‘n put sal laat bind. Daarna sal hy sy vrederyk op aarde vestig, waarin sy heiliges ook sal deel. Christene met ‘n ingesteldheid van hierdie aard noem hulleself premillennialiste, of chiliaste. Millennium is van die Latynse woord vir ‘n duisend afgelei, en chiliasme van die Griekse woord vir ‘n duisend. As premillennialiste glo ons in ‘n toekomstige duisendjarige vrederyk wat ná die wederkoms van die Here Jesus sal aanbreek.

Ons maak dus hoegenaamd nie die bewering dat die duiwel nou gebind is en dat ons nou in die duisendjarige vrederyk lewe nie. Ons erken eerder die feit dat die huidige wêreld goddeloos is en in die mag van die duiwel lê omdat die meeste mense die duisternis liewer het as die lig. As Christene het ons ‘n belangrike rol om hier te speel as die lig van ‘n geestelik donker wêreld en die sout van ‘n moreel bedorwe aarde. Terwyl ons dit doen, waak ons daarteen om een te word met hierdie wêreld wat die pad van rebellie teen God, sy Seun, sy Heilige Gees en sy Woord gekies het. Ons burgerskap is in die hemel van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam. Tans is ons vreemdelinge en bywoners op aarde, daarom lees ons graag profetiese boeke soos Openbaring oor hoe die Here ‘n einde aan hierdie goddelose wêreld en sy leiers gaan maak, en daarna sy regering van geregtigheid sal instel.

‘n Verdere baie belangrike uitspraak oor die profesieë in Openbaring is die volgende:

“Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10).

Hierdie teks is ‘n baie belangrike sleutel tot die verstaan van die profesieë. Die seën of die vloek wat mense tot in alle ewigheid sal ervaar, word uitsluitlik op grond van hulle verhouding teenoor die Here Jesus bepaal. Diegene wat in Christus is, kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe (Joh. 5:24; 1 Thess. 5:9). Hulle kan dus hoegenaamd nie in die groot verdrukking op aarde wees nie, omdat dit ‘n tyd van goddelike oordele oor ‘n onbekeerde wêreld is. Dit is met die oog hierop dat die Here Jesus aan sy dissipels gesê het: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Wat die geestelik verharde wêreld betref, sal die toorn van die Lam oor hulle uitgestort word omdat hulle hulself nie wou bekeer nie. Wanneer die kragte van die hemel geskud word en mense weens die groot aardbewings en rampe na die berge toe vlug, sal hulle na die berge en rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17). Hierdie mense sal nie die oordele vryspring nie omdat hulle hul nie wou bekeer nie. Paulus sê: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31).

Hierdie Man wat die wêreld in geregtigheid sal oordeel, is Jesus Christus, die Seun van God. Almal wat nie sy genade-aanbod aanvaar het nie, sal deur Hom geoordeel word. Hy sal aan al die goddeloses sê: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25:41). Dit is egter nie die wil van die Here om die goddeloses te verdelg nie, daarom reik Hy die hand van verlossing aan almal op aarde. Die Here Jesus sê Hy het sy apostels en dissipels na die heidene gestuur “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:18).

Die getuienis van Jesus ís die gees van die profesie! As jy sy liefde en reddende genade deur die geloof deelagtig geword het, word jy ‘n mede-erfgehnaam van sy hemelse koninkryk, en sal jy ook saam met Hom regeer. As jy egter sy genade-aanbod versmaai het of, soos die Fariseërs, in ‘n dooie vormgodsdiens verval het, sal jy die voorwerp van sy toorn wees. Hy self het gesê dat daar in die eindtyd ‘n groot verdrukking sal wees soos wat daar van die begin van die wêreld af nie was en ook nooit sal wees nie; en as daardie dae nie verkort word nie, sal geen vlees gered word nie (Matt. 24:21). Nie net die groot verdrukking nie, maar ook die eindoordeel en die poel van vuur is die oordele van God oor die goddeloses. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:31).

Uit ‘n studie van Bybelse profesieë oor die tekens van die tye weet ons dat die tyd vir die ontvlugting van die gelowiges voor die komende oordele van die groot verdrukking baie naby is. Daarna sal die Antichris geopenbaar en die oordele van die dag van die Here se toorgloed oor die sondaars uitgestort word. Oor hierdie verskriklike lot van die sondaars sê Jesaja die volgende:

“Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek… Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners… Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor… Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud” (Jes. 24:3-6, 19).

As jy die Here Jesus nie ken nie, wag die ergste denkbare oordele op jou. Waarom maak jy nie liewer jou saak met Hom reg nie, en ontvlug sodoede die toorn van die Here? “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here; al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes. 1:18).

Wanneer die Here Jesus met sy wederkoms terugkom, kom Hy nie net om die sondaars te straf en te oordeel nie, maar ook om sy dissipels te beloon vir hulle arbeid in die Here. In Openbaring 11:8 staan daar: “U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges, en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf.” Al hierdie dinge staan in verband met die dag van die Here. Aan die begin van die dag van die Here sal die eerste opstanding plaasvind en heiliges beloon word, dan sal die oordele van die verdrukking uitgestort word, en aan die einde van hierdie dag van ‘n duisend jaar sal die tweede opstanding plaasvind en die eindoordeel aanbreek.

In Openbaring 22 staan daar:

“En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste” (Op. 22:12-13).

Ons verdien niks nie, want ons het niks wat ons nie van die Here ontvang het nie, daarom word hierdie loon genadeloon genoem.

In die lig van die groot betekenis van Bybelse profesieë sê Paulus: “Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:20). Moet dit nie verswyg, verdraai of ontken nie, want dan ontneem jy mense die lig van die profetiese woord op hulle lewenspad.

 

1. Die Verklaring van Bybelse Profesieë

Die verklaring van Bybelse profesieë is ‘n onderwerp van groot omstredenheid, en Christene word na aanleiding daarvan in verskillende leerstellige skole geplaas. Mense wat die profetiese woord op ‘n letterlike, dispensasionele wyse verklaar, word chiliaste genoem. Dit is van die Griekse woord chilios afgelei wat duisend beteken, en verwys na diegene wat in ‘n letterlike, duisendjarige vrederyk op aarde glo wat ná die wederkoms van Jesus Christus sal aanbreek. ‘n Sinoniem vir die begrip chiliasme is millennialisme wat van die Latynse woord vir duisend, nl. mille, afgelei is. ‘n Persoon wat nie in ‘n letterlike duisendjarige ryk glo nie, word ‘n antichilias of ‘n amillennialis genoem. Sulke mense is geneig om deur middel van vergeesteliking aan verskeie begrippe in die Bybel ander betekenisse te gee.

As gevolg van hierdie omstredenheid word verskillende eksegetiese of verklarende beginsels vir Bybelse profesieë gebruik. Sommige daarvan wyk só ver van die grondbetekenis van die teks af dat dit die goddelike inspirasie van die Bybel in die gedrang bring. Die volgende is die vier algemeenste teologiese benaderings tot Bybelse profesieë:

1. Historiese premillennialisme

Tot ongeveer die einde van die vierde eeu n.C. was historiese premillennialisme die mees algemene beskouing oor eindtydse gebeure. In terme hiervan is verwag dat daar in die eindtyd ‘n Antichris sal opstaan en dat die kerk deur die tyd van verdrukking sal moet gaan. Aan die einde van die verdrukking sal die gelowige ontslapenes opstaan en saam met die lewende gelowiges na die hemel weggevoer word. Hulle sal dan dadelik, tydens Christus se wederkoms, saam met Hom terugkeer aarde toe sodat Hy die groot verdrukking kan beëindig, die Antichris en sy hordes verdelg, die oorblyfsel van Israel red en sy duisendjarige vrederyk met Jerusalem as hoofstad vestig. Almal behalwe een van die vroeë kerkvaders wat oor die profesieë gskryf het, het hierdie siening gehuldig.

Om meer duidelikheid oor die millennium se futuristiese strekking te kry, sal vasgestel moet word wat die apostel Johannes self daaroor geleer het toe hy van Patmos af vrygelaat is en sy bediening in Klein Asië voortgesit het. Kerkvaders wat sy leerlinge was, gee duidelik hieroor uitsluitsel en laat blyk dat veel gesprek oor hierdie onderwerp gevoer is. Die volgende inligting is hoofsaaklik uit ds. W.H.M. Oosthuizen se boek As die seun van die mens kom (bl. 106-108) verkry:

Papias, die biskop van Smirna, was ‘n leerling van Johannes en het eerstehands van die outeur se eie beskouinge oor die boek Openbaring kennis geneem. Hierdie kerkvader se siening is baie belangrik omdat hy die skakel tussen die chiliastiese tradisie en die apostels is. Papias het geleer dat daar ná die opstanding van die dode ‘n koninkryk van Christus op aarde sal wees wat ‘n duisend jaar lank sal duur, en waarin Christus liggaamlik as Koning op die troon sal sit. Die aarde sal ‘n tyd van ongekende vrugbaarheid beleef, en te midde van groot voorspoed sal Christus met sy heiliges regeer. Justinus die Martelaar het vroeg in die tweede eeu hieroor geskryf: “’n Sekere man onder ons, wie se naam Johannes is, een van die apostels van Jesus, het geprofeteer in ‘n openbaring wat hy gehad het dat diegene wat in ons Here Jesus glo, ‘n duisend jaar lank in Jerusalem sal deurbring.” Justinus het gesê dat dit kettery was om anders as chiliasties te glo.

‘n Ander kerkvader, Polikarpus, wat een van die jongste leerlinge van die apostel Johannes was, was ‘n vroom Christen wat ook ‘n marteldood gesterf het. Op die gesag van Johannes het hy geleer dat die aarde gedurende die duisendjarige vrederyk baie vrugbaar sal wees.

Ook van belang is die beskouinge van Ireneüs wat uit die mond van sy leermeester, Polikarpus, gehoor het wat die standpunt van Johannes was. Hy leer dat die loon van die regverdiges daarin sal bestaan dat hulle tussen die dode sal opstaan wanneer die skepping vernuwe en vrugbaar gemaak word. Hy het die mening gehuldig dat elkeen van die ses skeppingsdae op ‘n duisend jaar dui en dat die wêreldgeskiedenis dus, nadat sesduisend jaar verloop het, deur die sewende dag opgevolg sal word wat ook ‘n duisend jaar sal duur. Hierdie laasgenoemde gedagte word by verskeie kerkvaders aangetref, onder andere Cyprianus, Barnabas en Laktantius. In dié verband verklaar die Schaff-Herzog Ensiklopedie:

“Die algemene beskouing van die vaders was dat die Here aan die end van die sesde millennium sou verskyn. Die ou beskouing was dat hierdie koninkryk, wat met die sabbat van die skepping ooreenstem, ‘n duisend jaar sal duur.”

2. Amillennialisme (antichiliasme)

Hierdie denkrigting vloei voort uit die aanname dat Bybelse stellings nie letterlik opgeneem moet word nie, maar allegories of geestelik. Dié interpretasie het sy oorsprong in die Alexandrynse teologiese skool in die derde en vierdie eeue gehad.

Origenes (geb. 185 n.C.) is die vader van die allegoriese interpretasie en het heelwat boeke oor die verstaan van die Bybel geskryf. Hy was egter sterk onder die invloed van die Griekse filosofie van Plato, en wou filosofies meeleef maar tóg ook Christen bly. Prof. F.J.M. Potgieter skryf soos volg oor hom:

“Origenes vind tóg ‘n poort waardeur hy aan filosofiese denke toegang kan verleen. Daar is naamlik ‘n drieërlei eksegese (interpretasie) van die die Bybel: ·       Somatiese of letterlike eksegese wat vir die eenvoudige genoeg is; ·       die psigiese of morele vir die gevorderdes; en ·       die pneumatiese of allegoriese vir diegene wat die wysheid besit. Dié wat die wysheid het, moet deur die simbole heen dring en na die misterieuse opklim. Deur hierdie eksegese het hy die weg geopen vir allerlei dwalinge en metafisiese spekulasie.”

In die lig van bogenoemde is dit ook glad nie snaaks dat Origenes nie alleen die vader van die allegorie is nie, maar ook van die antichiliasme. Die werklike bestaan was vir hom in die filosofies-geestelike gnosis (godsdienstige waarheidskennis) geleë waarheen elkeen moet vorder. Daar kan dus geen sprake van ‘n fisiese koningskap van Christus wees nie. Ons vind derhalwe hier ‘n baie bedenklike oorsprong van allegoriese interpretasie en van antichiliasme as sodanig!

Die opkoms van antichiliasme hang verder ook saam met die optrede van keiser Konstantyn, wat Christen-vervolging in die Romeinse Ryk vroeg in die vierde eeu afgeskaf en die kerk tot staatskerk verhef het. Die vrede en beskerming wat die Romeine gebied het, het die kerk se toekomsverwagting na die wederkoms van Christus en die vestiging van sy vrederyk aansienlik laat afneem. Dit het die idee laat posvat dat die duiwel nou gebind is en dat die kerkbedeling die vrederyk op aarde is.

Die persoon wat seker die meeste daartoe bygedra het om chiliasme te bestry, was die kerkvader Augustinus. Sy optrede was teen die einde van die vierde eeu n.C. Hy het geglo dat ten spyte van die ineenstorting van aardse ryke soos die eens magtige Romeinse Ryk, die koninkryk van God (die kerk) nie alleen staande sal bly nie, maar sal triomfeer en sy invloed onder alle nasies sal uitbrei. Dit het Augustinus tot die gevolgtrekking laat kom dat die kerkbedeling tussen die eerste en tweede koms van Christus, die koninkryksbedeling (vrederyk) is waartydens die kerk op aarde sal regeer. Hy het tipiese koninkryksmagte aan die kerk toegeskryf, asook sakramente met saligmakende krag, en sodoende die teologiese grondslag vir die Rooms-Katolieke Kerk gelê. Protestantse hervormers soos Luther en Calvyn is egter ook sterk deur sy antichiliastiese koninkryksteologie beïnvloed, en dié invloede bestaan vandag nog.

Teoloë wat hierdie siening huldig, glo nie in ‘n letterlike millennium nie, en is dus amillennialiste of antichiliaste. Hulle is sterk daarop ingestel om Bybelse begrippe te vergeestelik en dan ander betekenisse daarin te lees (vervangingsteologie). Na aanleiding hiervan kan Israel of Jerusalem die kerk word, die 144 000 geredde Jode van Openbaring 7 kan die gelowiges van alle tye word, die sewe jaar lange verdrukking kan met die kerkbedeling gelykgestel word, ens. Min dinge in die Bybel word letterlik verklaar.

3. Postmillennialisme

Sedert die middel van die 16de eeu het ‘n nuwe siening oor die vervulling van Bybelse profesieë posgevat, nl. postmillennialisme. In terme hiervan sal die wêreld gaandeweg as gevolg van evangelisasie ‘n beter plek word om in te bly, en sal die millennium van die kerkbedeling uiteindelik aanbreek. Aan die einde van die “goue eeu” van ‘n Christelike wêreld, sal Jesus Christus vir die finale oordeel terugkom. Volgens postmillennialiste sal daar nie ‘n verdere bedeling van die koninkryk van God op aarde, met Jerusalem as hoofstad, wees nie.

Die kerkhervorming, asook die opkoms van Europese koloniale moondhede (veral die vinnige uibreiding van die Britse ryk) het die idee by sommiges laat ontstaan dat sendelinge die evangelie oor die hele wêreld sou uitdra, en dat dit uiteindelik sou lei tot ‘n Christelike wêreld waarin daar reg en geregtigheid geskied. Christelike hervorming en rekonstruksionisme moet dus voortdurend plaasvind totdat hierdie ideaal bereik is.

Hierdie mense glo duidelik nie dat die wêreld geestelik en moreel ál hoe donkerder word, met relatief min wat na die smal weg oorkom, en uiteindelik op die groot verdrukking onder die bewind van die Antichris afstuur nie. Die wêreld moet beter word sodat die millennium voor die wederkoms van Christus kan aanbreek.

Verskeie postmillennialistiese groepe huldig nog steeds hierdie ideaal. Sommige van dié beweging se leiers tree tot die politiek toe in die hoop dat die Here Christene in sleutelposisies sal plaas om die wêreld vir die koninkryk van God te kan oorneem. Ander bewegings en kerkgroepe wend hulle tot ‘n bonatuurlike magspel van tekens en wonders om sodoende die wêreld aan hulle voete te kry en ‘n groot herlewing tot stand te bring. Ander probeer om deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering die vestings van Satan te verbreek en hom dan van die planeet aarde af te verdryf sodat hy die nasies nie meer kan verlei nie.

Al hierdie koninkryksgroepe kyk nie na ‘n toekomstige koninkryk wat eers met die wederkoms van Christus geopenbaar sal word nie, maar na een wat deur die kragtige bemiddeling van die kerk van Christus nóú geskep moet word. ‘n Verwagting van hierdie aard is duidelik uit voeling met die strekking van Bybelse profesieë.

4. Moderne, dispensasionele premillennialisme

J.N. Darby (geb. 1800 in Londen) was ‘n uitstaande teoloog wat die grondslag gelê het vir die hervestiging van dispensasionalisme in die kerk. In die boek When the Trumpet Sounds (bl. 127-8) sê prof. Floyd Elmore van Ohio, VSA, dat John Darby in die afgelope 150 jaar die grootste invloed op die studie van Bybelse profesieë gehad het. Hy was ‘n voortreflike dienskneg van God wat gebruik is om die regte vertolking van Bybelse profesieë te bevorder. Prof. Elmore sê: “Darby is the acknowledged father of systematised dispensationalism and a key modern developer of the pretribulational rapture.”

Verskeie skrywers het ook belangrike bydraes oor hierdie onderwerp gemaak, bv. Joseph Seis (The Apocalypse), Clarence Larkin (Dispensational Truth), Robert Gundry (The Church and the Tribulation), J. Barton Payne (The Imminent Appearing of Christ) John Walvoord (The Rapture Question, The Revelation of Jesus Christ en The Blessed Hope and the Tribulation). Gedurende die laaste twee dekades het talle nuwe boeke oor dié onderwerp verskyn, asook chiliastiese Bybelkommentare (bv. Walvoord & Zuck: The Bible Knowledge Commentary).

In dispensasionele teologie word die Bybel letterlik verklaar vanuit die perspektief van God se handelinge met die mens in opeenvolgende bedelings. Die kerkdispensasie word deur die wegraping afgesluit sodat die volgende bedeling (die verdrukking van sewe jaar tydens die Antichris se regering) kan aanbreek. Omdat die verdrukking ook met goddelike oordele gepaard gaan, sal die ware kerk van Christus voor die tyd weggeneem word omdat hulle nie vir God se toorn oor die sondaars bestem is nie. ‘n Voor-verdrukking-wegraping is dus ‘n noodsaaklike deel van moderne dispensasionele premillennialisme.

Die begrip “premillennialisme” bevat die betekenis dat Jesus Christus se wederkoms voor die millennium sal plaasvind, en trouens ‘n voorvereiste vir die aanbreek en openbaring van sy duisendjarige vrederyk (die millennium) is. Vir die eerlike Bybelstudent is dit in elk geval duidelik dat ons nie nou in die duisendjarige vrederyk is waarin die duiwel gebind is nie. Die duiwel loop tans rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). As gevolg van sy sterk invloed oor die oorgrote meerderheid mense lê die hele wêreld in die mag van die Bose (1 Joh. 5:19). Ons bevind onsself dus in “die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4) waaruit die Here ons wil red.

Premillennialisme is tot die letterlike grondbetekenis van die Skrif verbind, behalwe waar dit uit die konteks baie duidelik is dat simboliese taal gebruik word. Voorbeelde van sulke simbole is die rooi draak met sewe koppe, wat in die Bybel self as die duiwel beskryf word. Simbole het dus meesal ‘n lettterlike teëbeeld, soos ook die Lam wat op Christus dui. Wanneer die Bybel egter oor Israel, die Antichris, die groot verdrukking, die valse profeet, die slag van Armagéddon, die wederkoms van Christus en die binding van Satan in ‘n put vir eenduisend jaar praat, is daar geen gronde hoegenaamd om hierdie begrippe simbolies of allegories te verklaar nie.

Beoordeling van die vier denkrigtings

Die vier denkrigtings wat hierbo beskryf is, kan kortliks soos volg geëvalueer word:

Historiese premillennialisme het wel ‘n duidelike begrip van ‘n toekomstige vrederyk met ‘n herstelde Israel en Jerusalem as wêreldhoofstad, maar geen insig in die belofte van die wegraping van gelowiges as ‘n ontvlugting uit die rampgebied van goddelike oordele nie. Waarskynlik as gevolg van die gruwelike vervolging van die vroeë kerk, het hulle gemeen dat die kerk ook deur die tyd van verdrukking onder die Antichris sal moet gaan. Hulle het egter in gebreke gebly om te onderskei tussen God se oordele oor die goddeloses, en die vervolging van Christene ter wille van hulle geloof deur 'n wêreld wat in die mag van die Bose lê. In laasgenoemde geval is dit nie God wat mense oordeel of straf nie. In die groot verdrukking, egter, sal God (soos in die tyd van Noag en Lot) die ongelowiges straf en dus seker maak dat die gelowiges eers na ‘n plek van veiligheid weggeneem is voordat Hy sy oordele oor die goddeloses uitstort.

Daar is huidiglik ook mense wat gedeeltelik of ten volle die historiese premillennialisme aanhang deur te beweer dat die wegraping eers in die middel of aan die einde van die verdrukking sal plaasvind, of dat daar hoegenaamd geen wegraping sal wees nie.

In die Amillennialisme (antichiliasme) het die boodskap van die meeste Bybelse profesieë as gevolg van die vergeestelikingsbeginsel hulle letterlike betekenis verloor en dus grootliks afgewater of selfs irrelevant geraak. Antichiliasme is dus tot ‘n allegoriese of ‘n historiese verklaring van Bybelse profesieë verbind. Die meeste antichiliastiese ‘kenners’ het ook hulle eie weergawe van die vervulling van Bybelse profesieë. Sommige beweer dat die Romeinse keiser Nero in die eerste eeu die Antichris was, ander sê dat een van die pouse in dié rol pas, terwyl Hitler, Stalin en ander diktators ook al as die Antichris bestempel is. Dan is daar dié antichiliaste wat beweer dat daar nooit ‘n persoonlike Antichris was of sal wees nie, omdat dié begrip net as ‘n onpersoonlike element van boosheid gesien word. So ook word die volk Israel sy identiteit en land ontneem en word die begrip Israel op die Nuwe Testamentiese kerk toegepas. Gebeure in Israel spreek hulle dus nie aan nie.

‘n Antichiliastiese siening tas die geloofwaardigheid van die profetiese woord aan, en lei daartoe dat mense nie wederkomsgerig leef nie en hulle in die algemeen baie min aan die vervulling van die tekens van die tye steur. Die noodwendige gevolg hiervan is dat hulle as uitsiglose Christene ‘n ál meer materialistiese lewens- en wêreldbeskouing ontwikkel en hulleself feitlik uitsluitlik met sekulêre en verganklike dinge besig hou. Binne hierdie horisontalistiese perspektief word menseverhoudinge, broederliefde, asook moreel-etiese en politieke kwessies van oorheersende belang, en die mens-God-verhouding ál meer op die agtergrond geskuif.

Die postmillennialisme leer dat die wêreld al hoe beter word. Hulle glo dat die Here Jesus se wederkoms ná die huidige ‘vrederyk’ van die kerkbedeling sal plaasvind. Hulle is só behep met koninkryksteologie dat hulle nie skroom om die Bybel totaal buite sy dispensasionele konteks toe te pas ten einde nóú as konings te regeer, voorspoed op te eis en na willekeur tekens en wonders te doen nie. Die vrederyk moet nóú sigbaar word!

Volgens die moderne, dispensasionele premillennialisme (chiliasme) word geglo dat Jesus Christus éérs kom en dán volg die beloofde vrederyk. Chiliaste glo wat in die Bybel staan en kyk gevolglik na die vervulling van ‘n groot aantal Bybelse profesieë vooruit. Chiliasme is nougeset op die grondwaarhede van die Skrif ingestel, veral in die mate waartoe dit ons verhouding met die Here raak. Dit bevorder ‘n duidelike toekomsverwagting by Christene en bring mee dat die Here ‘n groter realitiet in hulle daaglikse lewe word. Hulle is daarop ingestel om wêreldgebeure in die lig van die profetiese woord te vertolk, en sodoende ‘n Bybelse patroon in kontemporêre gebeure te onderskei. Hulle besef die erns van die uur waarin ons leef, gedagtig daaraan dat die bedeling van die kerk na sy einde spoed.

Verstaan van die Bybel

In die lig van bogenoemde denkrigtings is dit belangrik dat elke Bybelstudent vir homself duidelikheid oor die korrekte sienswyse verkry. 'n Kardinale vraag in verband met die profesieë is: "Hoe lees ons die Bybel?" Wanneer ons die profetiese woord bestudeer, is hierdie vraag van deurslaggewende belang. Uit ‘n bestudering van die vervulling van Ou Testamentiese profesieë kan elke persoon vir homself besluit of hy met die letterlike verklaringsmetode saamstem, en of hy liewer op allegoriese wyse na ‘n meer verborge betekenis agter dit wat geskryf is, wil soek. Die twee belangrikste sienings oor die wederkoms, nl. die chiliasme (verwag ‘n duisendjarige vrederyk van Christus op die aarde ná die wederkoms) en die antichiliasme (geestelike koninkryk gedurende die bedeling van die kerk) kan met die letterlike en allegoriese verklaringsmetodes onderskeidelik, in verband gebring word.

Die letterlike, of normale wyse waarop ons die Bybel lees, leer ons inderdaad die dinge waaraan ons as chiliaste glo. Hamilton, wat self ‘n antichilias is, erken hierdie feit in sy boek The Basis of Millennial Faith, wanneer hy sê: “Ons moet eerlik erken dat ‘n letterlike interpretasie van Ou Testamentiese profesieë aan ons dieselfde beeld van ‘n aardse Messiaanse ryk bied as dit wat deur die chiliaste geleer word.” Hamilton erken dus dat die verskil tussen chiliasme en antichiliasme nie is of die Bybel ‘n duisendjarige koningskap van Christus leer nie, maar hoe die Skrif wat wél so ‘n koningskap leer, geïnterpreteer moet word – letterlik of allegories.

Verskeie verklaringsmetodes van die Bybel is deur die eeue heen gevolg. Daar is egter twee wat werklik van belang is, veral in die bestudering van profesieë, en dit is die allegoriese en grammaties-historiese metodes. Laasgenoemde is die letterlike verklaringsmetode.

In sy Dictionary of the Christian Church definieer McDonald allegorie soos volg: “Die gebruik van taal om ‘n dieper en verskillende betekenis oor te dra as dit wat basies gekonstateer word.”

‘n Allegoriese verklaring moet duidelik van ‘n simboliese verklaring onderskei word. Die Bybel maak dikwels, ook in profesieë, van simboliese taal gebruik. ‘n Simbool, wat in sigself nie altyd ‘n besondere betekenis het nie, word dan gebruik om ‘n bepaalde gedagte, persoon of gebeurtenis by die leser tuis te bring. Dit is dan uit die verband duidelik dat dit ‘n simbool is en ‘n ander verklaring moet hê, bv. die dier met die sewe koppe wat op die Antichris dui.

By ‘n allegoriese verklaring het die Skrifwoord self egter wél ‘n duidelike en voor die hand liggende verklaring, maar die leser besluit dat hy iets anders daarin wil lees en ken dan willekeurig ‘n geestelike of figuurlike betekenis daaraan toe. Hy verklaar byvoorbeeld “Israel” in die Nuwe Testament as “die kerk”, die 144 000 Jode van Openbaring 7 wat vroeg in die verdrukking gered gaan word, word vir hom al die miljoene gelowiges van alle tye, en die komende duisendjarige vrederyk word die veel langer kerkdispensasie waarin die duiwel volgens hom gebind is.

Die allegoriese verklaarder onderwerp homself dus nie aan die gesag van die Skrif om ‘n betekenis daaruit te haal nie (uitlegkunde of eksegese), maar kom met ‘n vooropgestelde idee wat dan in die Skrif ingelees word (inlegkunde). Dit word die vervangingsteologie genoem waarin die grondbetekenis van ‘n woord met ‘n ander betekenis vervang word.

Angus en Green praat in The Bible Handbook ook van hierdie gevaar wanneer hulle sê: “Daar is ‘n onbeperkte moontlikheid vir vrysinnige vertolkings wanneer hierdie beginsel erken word en die enigste basis vir Skrifverklaring in die gedagtes van die verklaarder gevind word. Geen egte Skrifverklaring kan op hierdie wyse gedoen word nie.”

In sy Protestant Biblical Interpretation voeg Bernard Ramm die volgende by: “Om te beweer dat die grondbetekenis van die Bybel ‘n sekondêre betekenis is, en dat die belangrikste metode van Skrifverklaring die vergeestelikingsmetode is, is om die deur vir feitlik onbeheerde spekulasie en verbeelding oop te maak. Om hierdie rede dring ons daarop aan dat beheer oor interpretasie deur die letterlike metode uitgeoefen word.”

Die allegoriese metode van interpretasie word byna nooit konsekwent toegepas nie, want dit berus by die interpreteerder om te besluit wanneer hy die normale betekenis van ‘n Skrifwoord wil aanvaar, en wanneer hy dit wil vergeestelik. Daar is dus geen beheer oor dit wat iemand uit die Bybel haal nie, en die Bybel self het nie meer beheer oor hoe dit gelees word nie. O.T. Allis erken die gevaar hiervan wanneer hy sê:

“Die vraag of die figuurlike of geestelike interpretasie van ‘n bepaalde gedeelde geregverdig is of nie, hang slegs daarvan af of dit die ware betekenis weerspieël. Wanneer hierdie metode van verklaring gebruik word om woorde van hulle duidelike en voor die hand liggende betekenis te ontledig om vir ander betekenisse plek te maak, dan is dit heeltemal geregverdig om allegorisering, of vergeesteliking, as ‘n oneerbare en verwerplike metode van Skrifverklaring te beskryf.”

In sy gesaghebbende boek, Things to Come, gee Dwight Pentecost die volgende definisie van die letterlike metode van Skrifverklaring:

“Die letterlike metode van interpretasie is daardie metode wat aan elke woord dieselfde betekenis toeskryf as wat dit in die gewone, alledaagse gebruik van die spreektaal, skryf- of denkwyse het. Dit word die grammaties-historiese metode genoem om die feit te beklemtoon dat betekenis deur beide die grammatiese konstruksie en die historiese verband waarin die woord gebruik is, bepaal word."

Wanneer ‘n woord ‘n logiese betekenis het in die verband waarin dit gebruik word, dan mag dit nie simbolies opgeneem en anders verklaar word nie: “When the plain sense of the word makes common sense, then seek no other sense.”

Die sterkste bewys vir die letterlike verklaring is waarskynlik die wyse waarop die Nuwe Testament van die Ou Testament gebruik maak. Mens kan maar net kyk na die Ou Testamentiese profesieë oor Christus wat in die Nuwe Testament vervul is, naamlik oor sy geboorte, sy lewe, sy werk en sy dood. Geen een van hierdie profesieë is anders as letterlik vervul nie.

Die Ou Testament gee meer as 300 uitdruklike voorspellings aangaande die eerste koms van Christus, sodat dit vir elke Fariseër en skrifgeleerde duidelik moes wees wie Jesus is. Tóg het hulle Jesus nie erken en aanvaar nie, maar die waarheid onderdruk en hulle eie mense mislei. Waarom het hulle dit gedoen?

Die ganse sisteem van die verdoeseling en versluiering van Bybelse profesieë deur middel van allegoriese interpretasie, is ‘n duidelike set van die Satan om mense te laat vergeet van die koms van ons groot geestelike Verlosser wat as Persoon van die hemel af sal kom om hier te regeer. Tydens sy eerste koms het mense die voorspellings oor sy koms geïgnoreer, en moes die bittere gevolge daarvan dra.

Die letterlike interpretasie beteken slegs dat ons die Bybel op normale wyse lees soos wat hy homself vir ons aanbied. Simboliese en figuurlike taal word verklaar, maar dan het daardie simbool nog steeds ‘n letterlike antitipe, of objek, waarop dit dui. Jesaja 11:1 sê bv. dat daar ‘n takkie uit die stomp van Isai uitspruit, en ‘n loot uit die wortels, wat vrugte dra. Die verklaring hiervan is natuurlik dat Jesus as ‘n letterlike, historiese figuur sou verskyn, en dat Hy die dinge sou doen wat duidelik in die res van die hoofstuk beskryf word.

Ons hoef nie eers verder as die boek Jesaja te gaan om hierdie punt te demonstreer nie. Die onderstaande profesieë van Jesaja verwys almal na Persoon en werke van die Here Jesus as die beloofde Messias. Alle profesieë wat op sy eerste koms betrekking het, is letterlik vervul. Ons kan daarop reken dat dié wat tydens en ná sy wederkoms vervul sal word, nét so letterlik bewaarheid sal word. Jesaja sê:

·      Hy sal voor sy geboorte al geroep word om die Here se Dienskneg te wees (49:1).

·      Hy sal uit 'n maagd gebore word (7:14).

·      Hy sal ‘n afstammeling van Ísai wees en dus uit Dawid se geslag (11:1, 10).

·      Die Heilige Gees sal op Hom rus (11:2; 42:1).

·      Hy sal meegevoel met die swakkes hê (42:3).

·      Hy sal sy opdrag in gehoorsaamheid aan God uitvoer (50:4-9).

·      Hy sal Homself gewilliglik aan lyding oorgee (50:6; 53:7-8).

·      Hy sal deur Israel verwerp word (49:7; 53:1, 3).

·      Hy sal die sondes van die wêreld op Homself neem (53:4-6; 10-12).

·      Hy sal die dood oorwin (53:10).

·      Hy sal verhoog word (52:13; 53:12).

·      Hy sal kom om Israel te vertroos en wraak te neem op die goddeloses (61:1-3).

·      Hy sal God se heerlikheid openbaar (49:3).

·      Hy sal Israel geestelik na die Here terugbring (49:5) en ook fisies in hulle land herstel (49:8).

·      Hy sal op die troon van Dawid regeer (9:6).

·      Hy sal blydskap vir Israel bring (9:2).

·      Hy sal 'n nuwe verbond met Israel sluit (42:6; 49:8-9).

·      Hy sal die lig van die hele wêreld wees (42:6; 49:6).

·      Hy sal die nasies herstel en vestig (11:10).

·      Hy sal deur die nasies aanbid en vereer word (49:7; 52:15).

·      Hy sal die wêreld regeer (9:6).

·      Hy sal in getrouheid en geregtigheid oordee (11:3-5; 42:1, 4).

Die letterlike verklaringsmetode negeer nie die groot geestelike waarhede in die Bybel nie, want alles wat geestelike betekenis het word op 'n normale wyse geestelik verstaan. Dit is juis die fisiese verwagting van dit wat kom, wat ons tot die grootste mate van geestelike paraatheid, toewyding aan Jesus Christus en vervulling met die Heilige Gees aanspoor.

Ons kennis van die profesieë verskans ons ook teen die Antichris se misleiding, wat nou al volstoom aan die werk is. Ons aktuele verwagting van dit wat gaan kom, bevry ons ook van ‘n onbybelse koninkryk-nou teologie wat op aansien, rykdom, sorgeloosheid en die ervaring van allerlei bonatuurlike tekens, manifestasies en wonderwerke gebaseer is.

Die Fariseërs het Jesus se geloofsbriewe tydens sy eerste koms verwerp. Die kerk as instituut sal ook aan die slaap gevang word, en sal die Here Jesus se geloofsbriewe tydens sy tweede koms verwerp. Die kerk sal deur sy eie toedoen geen ander keuse hê nie, want hy verwerp nou reeds al die duidelike tekens wat die wederkoms voorafgaan. Wie sal die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar – miskien Origenes en sy allegoriese navolgers?

Die betekenis van chiliasme

Binne die raamwerk van 'n chiliastiese perspektief word die tyd uitgekoop om andere te waarsku om hulle saak met die Here reg te maak. ‘n Groter evangelisasie-ywer word op dié wyse gekweek, omdat die tyd vir die uitvoering van die groot opdrag min geword het. Dit maak jou nog meer aktief omdat jy besef dat jy ‘n vreemdeling en bywoner in ‘n verbygaande wêreld is. Verder spreek die profetiese woord jou aan om voortdurend in ‘n toestand van heiligheid en gereedheid vir die wederkoms te leef, en elke dag reikhalsend na die koms van die Bruidegom uit te sien.

Chiliasme was vir baie lank die oorheersende skrifbeskouing in die Protestantse wêreld totdat dit deur liberale en vrysinnige teologiese verklarings vervang is. Wyle oom Timo Kriel, wat baie boeke vir Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) in Afrikaans vertaal het, bevestig die feit dat die stigters van die Kweekskool op Stellenbosch almal chiliaste was. In ‘n voorwoord vir prof. J.S. Malan se boek, Die Laaste Nagwaak, sê hy onder meer die volgende hieroor:

“Ek was goed bevriend met die stigters van die kweekskool op Stellenbosch: professore Hofmeyr, Marais, De Vos, Muller en ds. Neethling. Hulle was almal chiliaste; trouens, daar was geen ander standpunt bekend nie. Antichiliasme het baie later uit Holland hier aangekom en die oorsaak geword dat ‘n menigte wagters op Sionsmure dié waarhede op hulle boonste rakke weggepak het en ‘n dodelike swye daaroor bewaar. Wat gaan God van hulle eis?”

'n Geesgenoot en produk van bogenoemde teoloë, dr. D.R. Snyman, wat ‘n NG predikant in Stellenbosch was, was 'n baie bekende chiliastiese skrywer wat verskeie artikels in die tydskrif Kyk, Hy kom! gepubliseer het. Op aandrang van die publiek is hierdie artikels later in 'n boek saamgevat en deur CUM uitgegee onder die titel: Die komende Christus en die komende krisis. Hierin word die tekens van die tye, die herstel van Israel, die wegraping, die verskyning van die Antichris en die duisendjarige vrederyk beskryf. In die voorwoord van sy boek skryf dr. Snyman:

“Ons dink met dankbaarheid terug aan die ondersoek van die profesieë deur manne soos wyle prof. N.J. Hofmeyr, ds. G.W.A. van der Lingen, ds. S.J. du Toit, prof. C.F.J. Muller en prof. J.I. Marais. Laasgenoemde het hom in sy latere jare in die besonder toegelê op die bestudering van die profesieë. Hy was van plan om 'n uitleg van die boek Openbaring te publiseer. Sy skielike dood het die verskyning van die boek verhinder.”

Al hierdie werke het 'n chiliastiese (premillennialistiese) verwysingsraamwerk gehad. Ongelukkig is navorsing van dié aard deur die antichiliastiese siening wat veral uit die Vrye Universiteit in Holland hierheen oorgedra is, onderdruk. Die teologie in Europa is sterk deur die Jodehaat van die Tweede Wêreldoorlog beïnvloed. Dit het daartoe gelei dat Israel se profetiese toekoms as volk ontken en die kerk in die plek van Israel as "die Israel van die Nuwe Testament" gesien is. In ooreenstemming hiermee is ander profesieë, bv. dié oor die duisendjarige vrederyk, ook vergeestelik en van hulle letterlike betekenis beroof.

Hierdie wanopvattings oor die profesieë moet dringend reggestel word omdat ons in die laaste geslag voor die wederkoms van Christus leef. Ons kan dit hoegenaamd nie bekostig om in onkunde oor die inhoud en eise van die profetiese woord te leef nie. Dit kan ons duur te staan kom!

Dit is nou, soos nooit tevore nie, tyd om die profesieë van die Bybel met groot erns te benader en te lees. Die profetiese woord is baie vas, en ons moet daarop ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn (2 Pet. 1:19). Dit sal baie sake oor die komende oordele van God vir ons opklaar, en ook duidelike raad aan ons gee oor hoe ons hierdie oordele kan vryspring.

Hoewel die bedeling van die kerk ná die wegraping verby sal wees, kán mense in daardie tyd nog gered word en by informele byeenkomste die ware God aanbid. Die amptelike kerke sal egter almal by ‘n antichristelike ekumeniese alliansie betrek word, wat op die erkenning en aanbidding van die Antichris as wêreldmessias sal uitloop. Alle ernstige soekers na die waarheid sal uit dié strukture moet wegbly.

Dit is ons taak om toe te sien dat ons vir die wegraping en die ontvlugting uit God se oordele gereed is. Ons moet ook andere vermaan en help om hiervoor gereed te wees. Noag was ‘n prediker van geregtigheid wat sy goddelose tydgenote baie ernstig teen die komende oordele gewaarsku het, terwyl hy aan die ark gebou het. Dit was beslis nie sy skuld dat hulle agtergebly en gesterf het nie.

U sal baie baat by die bestudering van die profetiese woord vind. In die groot skatkamer van Bybelse profesieë sal u onnaspeurlike rykdomme van Christus se liefde en reddende genade ontdek, maar ook ernstige waarskuwings oor die donker nag van verskrikking wat vir almal wag wat hulle nie deur Jesus Christus tot die lewende God bekeer het nie.

 

 

2. Dispensasies in die Bybel

Die mens se heilsgeskiedenis op aarde word binne die raamwerk van sewe dispensasies beskryf. Dit begin by die skepping van Adam en Eva in die paradys en eindig in die nuwe hemel en op die nuwe aarde waar die volmaaktheid van die ewige lewe vir die kinders van God sal aanbreek.

Die volgende is die sewe bedelings wat in die Bybel ter sprake is:

1.    Die bedeling van onskuld in die paradys.

2.    Die bedeling van die gewete ná die sondeval.

3.    Die bedeling van die wet in die Ou Testament.

4.    Die bedeling van die kerk, of die Heilige Gees, in die Nuwe Testament.

5.    Die bedeling van die Antichris se regering van sewe jaar ná die wegraping.

6.    Die bedeling van die koninkryk (die 1000-jarige vrederyk van Christus) ná die wederkoms.

7.    Die bedeling van volmaaktheid in die ewigheid in die nuwe hemel en op die nuwe aarde.

Die begin en die einde van ‘n bedeling gaan altyd met dramatiese gebeure en ‘n nuwe ontplooiing van God se raadsplan gepaard. Dit word ook deur verskerpte demoniese aktiwiteite gekenmerk omdat Satan dan op ‘n buitengewone en besonder listige en verwoede wyse alles in die stryd werp om God se raadsplan te ontwrig of ongedaan te probeer maak.

Die belangrikste kenmerke van die sewe dispensasies is, in breë trekke, die volgende:

1. Die bedeling van onskuld

Die heel eerste bedeling waarin Adam en Eva in die paradys was, was die bedeling van onskuld. Hulle het geen kennis van goed en kwaad gehad nie, daarom was hulle nie eers van hulle naaktheid bewus nie. Die Here het aan hulle sekere opdragte gegee, wat ook ‘n verbod op die vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad ingesluit het. As hulle hiervan eet, sou hulle sekerlik sterwe (Gen. 2:17).

Satan het vir Adam en Eva egter op ‘n listige wyse verlei om God se opdrag te oortree en van die boom se vrugte te eet (Gen. 3:1-5). Hulle het hierdeur nie net van die onderskeid tussen goed en kwaad bewus geword nie, maar self slagoffers van die kwaad geword. Omdat hulle teen God gerebelleer en na die duiwel geluister het, het hulle ‘n sondige natuur gekry en geestelik gesterwe. Ook het hulle fisies sterflike mense geword. Die bedeling van onskuld is dus deur die sondeval beëindig, en Adam en Eva is uit die paradys weggedryf.

2. Die bedeling van die gewete

Vir ‘n lang tyd ná die sondeval het die mens d.m.v. die stem van sy gewete tussen goed en kwaad onderskei. Hy het geen ander voorskrifte gehad om na te volg nie. Verskeie mense het na aanleiding van hulle innerlike oortuigings geregtigheid nagestreef, en getuienis ontvang dat hulle God behaag het. Die Here het Homself ook aan hierdie mense geopenbaar en selfs met hulle gepraat. Baie van hulle het predikers van geregtigheid geword. Voorbeelde van sulke manne was Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak, Jakob en Josef.

3. Die bedeling van die wet

Aan die einde van die bedeling van die gewete, toe Israel in Sinai op die punt gestaan het om die wet van die Here te ontvang en sodoende ‘n nuwe dispensasie te betree, het Satan weer met al sy mag toegeslaan om die verdere ontplooiing van God se raadsplan te voorkom. Terwyl Moses op die berg was, het die duiwel die volk tot afgodediens verlei sodat hulle geestelik nie gereed was om die wet van die Here te ontvang nie. As gevolg van hierdie geweldige afvalligheid en rebellie teen God het Moses die kliptafels van die wet stukkend gegooi. Die Here het egter ná ernstige gebed deur Moses die volk hulle sonde vergewe en weer sy wette aan hulle gegee.

Hiermee het die bedeling van die wet aangebreek, waarin die onderskeid tussen goed en kwaad baie meer eksplisiet uitgespel is. Nie net in die Tien Gebooie nie, maar ook deur ‘n groot aantal verordeninge het God aan sy volk opdragte gegee oor wat hulle móét doen en nié mag doen nie. Satan het volgehoue pogings aangewend om die volk ontrou aan God en sy wette te maak.

4. Die bedeling van die kerk

Dit word ook die bedeling van genade en die bedeling van die Heilige Gees genoem. Met die koms van Jesus as voorbereiding vir die aanbreek van die bedeling van genade, het die duiwel met groot woede toegeslaan om Jesus in onguns te bring, te probeer doodmaak, en ook om die apostels en die vroeë Christelike kerk deur geweld uit te roei. Sy planne het egter misluk en die bedeling van die kerk het gevestig geraak.

Ná die kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus, is die Heilige Gees uitgestort om mense te wederbaar en in die hele waarheid te lei. Deurdat Hy hulle van sonde en geregtigheid oortuig, verkry hulle nog veel dieper insig in die onderskeid tussen goed en kwaad. Die kwaad sluit nie net sondige dade in nie, maar ook sondige gesindhede. Ten spyte van die dieper insig, leef ons in ‘n gebroke werklikheid waarin ons nog steeds net ten dele ken. Ons moet waak teen geestelike onkunde en aktief na die dinge van die Here soek. Ons moet toeneem in genade en kennis van ons Here Jesus, terwyl ons ook ‘n groter sensitiwiteit en afkeur vir die sonde ontwikkel.

Nou staan ons aan die einde van die bedeling van die kerk, en is dit weer eens ‘n tyd van groot afvalligheid en demoniese aktiwiteite. Satan werp alles in die stryd om die kerk te vervals en die maagde wat op die koms van die Bruidegom moet wag, aan die slaap te sus. Dit is nie sonder rede dat die Here sê dat ons moet vas staan teen die aanslae, en moet waak en bid om vir sy skielike koms gereed te wees nie.

5. Die bedeling van die Antichris

Wanneer die teëhouer, naamlik die ware kerk van Christus, d.m.v. die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris geopenbaar word (2 Thess. 2:6-12). Dit sal ‘n hele nuwe bedeling inlui waarin die massas deur die krag van die dwaling mislei sal word. Hulle sal ook verslaaf, verdruk en doodgemaak word. Die kwaad sal dan tot sy volle ontplooiing kom. In teenstelling hiermee sal die kerk wat weggeraap is, verheerlik word om die goeie ten volle te ken.

Aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking, wanneer Satan sal weet dat die dae vir die Antichris se wêreldregering min geraak het, sal hy met dubbele woede toeslaan om mense dood te maak. Hy sal alle magte tot sy beskikking in die slag van Armagéddon teen die komende Christus monster. Dit sal egter vir hom geheel-en-al ‘n verlore stryd wees, want die Antichris en die valse profeet sal lewend in die hel gewerp word terwyl Satan ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put gebind sal word (Op. 19:19–20:3).

6. Die bedeling van die koninkryk

In die duisendjarige vrederyk sal die ware gelowiges van alle tye saam met Christus in sy koninkryk regeer (Op. 5:10; 20:6). As verheerlikte wesens sal hulle nie meer aan pyn, droefheid, ellende en die dood onderworpe wees nie, en ook nie meer deur ander vorms van onvolmaaktheid geteister en beperk word nie. Hulle sal ten volle ken, soos wat hulle ook ten volle geken is.

Aan die einde van die bedeling van die vrederyk sal Satan vir ‘n kort tydjie losgelaat word om sy laaste groot aanslag teen die koninkryk van God te loods. Dit sal na sy ewige verdoemenis in die poel van vuur lei (Op. 20:7-10).

7. Die bedeling van die ewigheid

In die ewigheid, in die nuwe hemel en op die nuwe aarde, sal daar nooit weer iets inkom wat verontreinigend of sondig is nie (Op. 21:27). Volmaakte vrede en vreugde sal heers wanneer die gelowiges vir altyd in die teenwoordigheid van God leef.

Die poel van vuur sal ook vir ewig bestaan, waar Satan, sy demone, en alle misleides van alle eeue vir ewig die straf vir hulle rebellie teen God sal ondergaan (Op. 14:9-11; 20:15; Dan. 12:2).

Die gevolge van dispensasionele verwarring

Indien die dispensasies in die Bybel nie duidelik van mekaar onderskei word nie, kan dit tot groot teologiese verwarring en verkeerde sienings lei. Twee van die dispensasies wat dikwels saamgegooi word, is die huidige kerkbedeling en die toekomstige koninkryksbedeling van die duisendjarige vrederyk. Dit het ernstige gevolge, wat gesamentlik as verskillende manifestasies van die koninkryksteologie beskryf word: Die belangrikste hiervan is die volgende:

·      Die ontkenning van ‘n toekomstige vrederyk en die vereniging daarvan met die kerkdispensasie lei na ‘n koninkryksteologie waarin voorspoed, mag en ekumeniese bande nagestreef word. Mense wil as konings en groot profete regeer. Hulle maak op onverifieerbare, twyfelagtige, buite-Bybelse openbarings aanspraak en dit vorm die grondslag van ‘n groeiende groep aanmatigende profete en apostels wat deur hulle magspel die wêreld wil oorneem. Christelike én multigodsdienstige ekumene word beoefen, en ter wille van groter eenheid en mag word die eis van leerstellige suiwerheid goedsmoeds ingeboet.

·      Die binding van Satan gedurende die vrederyk word na die huidige kerkdispensasie verskuif. Dit het twee gevolge: (1) Baie kerke het feitlik geen demonologie en begrip vir ons stryd teen die Bose nie, en bied net sielkundige berading teen die werke van Satan aan. Volgens hulle is Satan al tydens die eerste koms van Jesus gebind en leef ons nou in die koninkryksbedeling. (2) In ander kringe word weer erken dat die duiwel en sy ryk groot mag het, maar daar word verkeerdelik beweer dat die kerk deur die Here bemagtig is om Satan en sy sogenaamde “gebiedsdemone” nóú al te bind, te onttroon en te verdryf sodat hulle hul gesag in dorpe, stede én in hele lande verloor. Dié metode is dispensasioneel uit plek en dus ook onbybels, omdat Satan eers met die wederkoms van Christus van sy magsposisie in die wêreld ontneem en vir ‘n duisend jaar in ‘n put gebind sal word. Geestelike oorlogvoering moet in hierdie bedeling op individue toegespits word, en nie op ‘n territoriale of wêreldvlak nie. Individue moet geleer word om in ‘n bose wêreld te oorwin en geestelik staande te bly; maar die wêreld, in ‘n breë verband, sal ‘n bose plek bly totdat die Here Jesus kom om die magte van die Antichris te verdelg en Satan te laat bind.

·      Die vergeesteliking van Bybelse profesieë, en die ontkenning van beloftes soos dié oor die wegraping, lei tot geestelike uitsigloosheid onder die Christene omdat dit hulle toekomsverwagting oor die wederkoms omtrent heeltemal wegneem. Die gebrek aan Bybelse kennis oor die dispensasie waarin ons nou leef, asook ‘n gebrek aan kennis oor die ontluikende bedeling van die Antichris, lei tot verwarde denke. Die gevolg hiervan is dat mense nie ‘n ingryping van die Here deur die wegname van sy gemeente verwag nie, en ook nie onderwerping van die agtergeblewenes aan die diktatuur van die Antichris nie. Die plek van hierdie profetiese ingesteldhede word deur sekulêre ideale en vooruitsigte vervang, bv. sosio-ekonomiese transformasie, asook die eenheidsindroom van die nuwe wêreldorde.

Indien ons wél die kerkbedeling en die toekomstige vrederyk van mekaar onderskei, vrywaar ons onsself só van die probleme wat hierbo genoem word:

·      Ons sal nie Satan se mag onderskat of wegredeneer deur te beweer dat hy nóú gebind is nie. Tydens die kerkbedeling loop hy rond soos ‘n brullende leeu om te soek wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). In die vrederyk sal hy volkome gebind wees (Op. 20:1-3). Die stryd teen die Bose in die huidige dispensasie maak dus ‘n wesenlike deel van ons praktiese Christenskap uit. Sy strategieë sluit die misleiding van Christelike kerke d.m.v. valse profete in (2 Kor. 11: 13-15; Matt. 7:15-23; 24:11, 24).

·      Ons sal realisties wees oor die feit dat ons in “die teenwoordige bose wêreld” leef (Gal. 1:4) waarin die Christene ‘n minderheidsgroep is, en dus vreemdelinge op geestelike gebied wat moet skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Die meerderheid mense het die duisternis liewer as die lig omdat hulle werke boos is (Joh. 3:19).

·      Ons sal nie die dwalings van die koninkryk-nou teologie en die voorspoedsevangelie ten prooi val nie, omdat ons nie nou in die probleemvrye en oorvloedige toestand van die komende vrederyk leef en soos konings regeer nie.

·      Ons sal nie die valse vredesinisiatiewe en ongekwalifiseerde eenheidsdenke van die huidige, antichristelike nuwe wêreldorde aanvaar nie, omdat ons in ‘n tyd van konflik en stryd leef. Die koninkryke van God en dié van Satan is onverenigbaar, daarom is groter polarisasie en spanning onafwendbaar.

Die volgende tabel bied ‘n vergelykende studie tussen die huidige kerkdispensasie en die toekomstige bedeling van die vrederyk op aarde aan. ‘n Duidelike onderskeid tussen dié twee dispensasies sal baie help om die geestelike gedisoriënteerdheid van ons tyd uit te skakel:

Die Huidige Kerkbedeling

Die Duisendjarige Vrederyk

Verborge koninkryk. Die koninkryk van die Here is tans verborge omdat dit nie deel van hierdie bose wêreld is nie. Dit is ‘n onsigbare, geestelike realiteit vir gelowiges. Jesus het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Joh. 18:36). Aan sy dissipels het Hy gesê: “Dit is aan julle gegee om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken” (Matt. 13:11). Paulus het gesê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Hand. 14: 22). Ons is nie nou konings nie, maar soldate vir die kruis wat ‘n geestelike wapenrusting moet aantrek om staande te bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-12). Ons wag nog vir die openbaring van die hemelse koninkryk: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21). In die geopenbaarde koninkryk van die hemel sal ons verheerlikte liggame hê, en dus in heerlikheid geopenbaar word (Kol. 3:4).

Geopenbaarde koninkryk. ‘n Teokratiese wêreldregering sal ná Christus se wederkoms gevestig word. Die engel het aan Maria gesê: “Jy sal ‘n seun baar en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:31-33). Ná die kerkbedeling kom Jesus as Koning terug: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15: 16-17). Met sy wederkoms sal Hy die koningskap aanvaar: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15). “Hy sal die nasies met ‘n ysterstaf regeer” (Op. 19:15) en ons sal saam met Hom in hierdie regering van geregtigheid deel (Op. 2:26-27).

Christus die Middelaar en Hoëpriester op sy Vader se troon. Tydens sy fisiese afwesigheid van die aarde af is Jesus ons Hoëpriester wat op die Vader se troon vir ons intree. “[Stefanus] was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God” (Hand. 7:55). Jesus het gaan sit aan die regterhand van die troon van die majesteit in die hemele (Heb. 8:1). Christus is ons Middelaar en Hoëpriester wat in hierdie bedeling net leef om mense te red en vir ons in te tree (Heb. 4:15; 7:24-27; 8:1).

Die troon van Christus in Jerusalem. In die vrederyk sal Jesus op die troon van Dawid in Jerusalem regeer. “Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke” (Jes. 2:3-4).  “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en… om genade te smeek” (Sag. 8: 22). “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem” (Jer. 3:17).

Satan beklee ‘n magsposisie op aarde. Die Here Jesus noem Satan “die owerste van hierdie wêreld” (Joh. 14:30). Paulus sê hy is “die god van hierdie wêreld” wat die sinne van die ongelowiges verblind (2 Kor. 4:4). Johannes sê dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Hy sê ook dat die duiwel die hele wêreld verlei (Op. 12:9). Dit is waarom die Here Jesus ons wil uitred uit die teenwoordige bose wêreld (Gal. 1:4). Petrus sê: “Julle teëstander, die duiwel, loop  rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5:8-9). Dit is ‘n baie werklike stryd waarin ons teen hierdie bose vyand staan: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Ef. 6:11-12). “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7). God is oppermagtig, maar Hy het Satan toegelaat om mense te mislei sodat hy én sy misleides wat ook vir God verwerp, geoordeel kan word. Baie mense is kinders van die duiwel (Joh. 8:44).

Satan sal gebind wees. Hy sal glad nie die nasies tot sonde kan verlei en ook nie revolusies, militêre optrede en oorloë kan aanhits nie. “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle  sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:4). “[Die nasies] sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Só 'n toestand het nog nooit op aarde geheers nie. Aan die einde van die vrederyk sal Satan losgelaat word en onmiddellik weer die nasies tot sonde en oorlogvoering aanhits: “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal …en hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank… en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word… En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan… uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is… om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see… en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp” (Op. 20:1-3, 7-10).

‘n Wêreld vol ongeregtigheid. In die huidige bedeling voer sonde en ongeregtigheid die botoon: “Wee hulle wat die ongeregtigheid nader trek met koorde van goddeloosheid, en die sonde soos met wa-toue… Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng; wat vir ‘n omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die regverdige hom ontneem” (Jes. 5:18, 22-23). “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense” (Rom. 1:18). Nasies én individue is besig om die maat van hulle ongeregtigheid vir die komende oordele vol te maak.

Christus sal ‘n regering van geregtigheid instel. Reg en geregtigheid sal oral op aarde geskied. Vir Israel sê die Here: “Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin” (Jes. 1:26). Die Messias sal ‘n Regter wees wat die reg soek en gou is in geregtigheid (Jes. 16:5). “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jes. 2:3). Die inwoners van baie stede sal die Here om genade gaan smeek en sy wette eerbiedig (Sag. 8:21).

Vreemdelinge en bywoners. Weens die boosheid op aarde is die regverdiges tans soos vreemdelinge: “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel” (1 Pet. 2:11). Die geloofshelde en martelare het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was (Heb. 11:13). Hulle is vervolg en doodgemaak, maar met die oog op die opstanding en die toekomstige openbaring van die koninkryk het hulle getrou aan die Here gebly (Heb. 11:35-40). Hulle loon is nog toekomstig, ná Christus se wederkoms (Op. 22:12).

Regeer as konings. In die vrederyk sal die gelowiges wat in die eerste opstanding opgewek is, saam met Christus as konings regeer (Op. 20:6). Hulle sal die Lam toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5: 9-10). Hulle sal dissipline handhaaf en die nasies met ‘n ysterstaf regeer (Op. 2:26-27). In die bedeling wat kom is daar geen sprake van die vervolging van gelowiges nie – hulle sal as konings regeer en deur almal geëer word!

Valse vrede, haat en konflik heers op aarde. Daar is geen ware en bestendige vrede nie. Konflikte en oorloë is aan die orde van die dag. Die werkers van ongeregtigheid spreek van vrede met hulle naaste, maar daar is kwaad in hulle hart (Ps. 28:3). Hulle sê: Vrede, vrede! terwyl daar geen vrede is nie (Jer. 6:14). “Julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie omdat julle nie bid nie” (Jak. 4:2). Ons kan vrede in ons harte hê, maar sal stryd in die wêreld hê (Matt. 10:34).

‘n Sigbare vrede sal op aarde heers. ‘n Sigbare, uiterlike vrede sal tussen mense en volke heers, sodat geen oorlogvoering tussen hulle sal plaasvind nie: Christus sal die Vredevors wees, “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig” (Jes. 9:5-6). Hy sal “die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand” (Ps. 46:10; vgl. ook Hos. 2:17). Vrede sal op alle terreine heers.

Israel as volk geestelik verblind en vervolg. Die meerderheid Jode verwerp Jesus as die beloofde Messias en het as gevolg hiervan in ballingskap onder die nasies gegaan, waar hulle erg vervolg is. Jerusalem het God se profete én die Messias verwerp, daarom is hulle land en stad verwoes (Matt. 23:37-38). “[Julle] sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk 21:24). Tans het Israel as volk nog skille oor hulle oë en aanvaar dus nie vir Jesus as Messias nie. Dit is waarom hulle nie vrede het en ook nie in aansien onder die nasies is nie.

Israel ten volle in hulle land herstel. Alle lede van die volk sal gered wees en die Messias voluit dien. Hulle sal die lof van Jesus oral verkondig en groot seëninge geniet: “Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde” (Jes. 12:6). “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6). “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23). Hulle sal dan die belangrikste verkondigers van die Messias se lof op aarde wees, en sal oral op die hande gedra word.

Geestelike duisternis en onkunde op aarde. Die meeste mense leef in geestelike duisternis, onkunde, sonde en rebellie teen God: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig, want hulle werke was boos” (Joh. 3:19). “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matt. 7:13-14).

Die Here word oral geken. Die valse godsdienste sal nie bestaan nie, en almal op aarde sal die Here ken en eer: “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Hab. 2:14). Oor Israel sê die Here: “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here. Want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hul sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34).

Siekte is algemeen. Siekte, pyn en lyding tref alle mense: “En daar is in Jerusalem ‘n bad wat… Betésda genoem word. Daarin het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het” (Joh. 5:2-3). Benoudhede, swakhede en liggaamlike teistering was ook Paulus se deel en hy moes leer om daarmee saam te leef (2 Kor. 12:7-10). Nie almal word genees nie.

Geen siekte. Mense sal nie siek word nie. Indien wél, sal daar genesing wees. “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jes. 33:24). “En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie… en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees” (Eseg. 47:12). Almal sal hierin deel en niemand sal siek bly nie. Die Here sal hiervoor sorg.

Kort lewensverwagting. ‘n Mens se lewe in dié bedeling is kort: “Die dae van ons jare – daarin is 70 jaar, of as ons baie sterk is, 80 jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby en ons vlieg daarheen” (Ps. 90:10).

Hoë ouderdomme. ‘n Honderdjarige sal in daardie tyd nog as ‘n seun beskou word: “Want ‘n seun sal sterwe honderd jaar oud… want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome” (Jes. 65:20, 22). Mense sal honderde jare oud word.

Disharmonie in die diereryk. Die diere is vyandig op mekaar omdat die een deur die ander verslind word. Hulle is voortdurend op die vlug vir vyande. As ‘n jong leeu onder die troppe klienvee deurtrek, dan vertrap en verskeur hy sonder dat iemand red (Miga 5:7). “En Paulus het ‘n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en ‘n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt” (Hand. 28:3). Roofdiere moet beheer word. Volgens Openbaring 6:8 sal hulle in die komende verdrukking baie mense aanval en doodmaak.

Harmonie in die diereryk. Volgens Hosea 2:17 sal die Here ‘n nuwe verbond met die diere sluit en hulle natuur verander. “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ‘n adder… Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie” (Jes. 11:6-9; kyk ook Jes. 65:25).

Natuurrampe. Die natuur is as gevolg van die sondeval aan uitputting, uiterste toestande en onvolkomenheid onderworpe. Droogtes, oorstromings, aardbewings, ens. kom voor. “Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe.. in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Rom. 8:20-21).

Harmonieuse skepping. Die natuur sal oral op aarde na volkomenheid herstel word: “Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ‘n waterplas maak en die dor land waterbronne. Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die wilde olyfboom; Ek sal in die woestyn plant die sipres, die plataan en die denneboom, dié almal” (Jes. 41:18-19). Die aarde sal 'n lushof wees.

Misoeste en teëspoed is algemeen. Dorings, distels en uiterste klimaatstoestande lei dikwels tot misoeste: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, en die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die Here” (Hab. 3:17-18). Dit is ‘n tyd van toetsing en konflik.

Voorspoed en goeie oeste. Oeste sal konstant  en ook uitermate groot wees, met geen droogtes, skadelike onkruid en plae wat verwoes nie: “Kyk, die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees” (Amos 9:13). “Vir ‘n doringboom sal ‘n sipres opgaan; vir ‘n distel sal ‘n mirteboom opgaan” (Jes. 55:13).

Die opeenvolging van drie dispensasies

In verband met bogenoemde vergelyking moet onthou word dat die bedeling van die Antichris se regering op aarde nog tussen die kerkdispensasie en die vrederyk inpas, soos uit onderstaande tabel blyk:

Kerkbedeling

Verdrukking (7 jaar)

Millennium (1000 jaar)

Die wêreld lê in die mag van die Bose.

Christene moet die volle wapenrusting van God aantrek om teen Satan se liste staande te bly.

Ons is vreemdelinge en bywoners in hierdie bedeling en het nog nie die aarde beërf nie.

Israel word verstrooi maar aan die einde van die kerkbedeling weer herstel

Nie-Christelike gelowe floreer in die hele wêreld.

Die meeste mense het sonde lief, verkies die duisternis bo die lig en bewandel die breë pad hel toe.

Christelike kerke word deur valse profete mislei wat okkultiese tekens en wonders doen.

Onheilspellende tekens van die tye dui die naderende dag van die Here se openbaring aan.

Die Antichris sal ‘n nuwe wêreldorde van universele politieke, godsdienstige en ekonomiese eenheid instel en vir sewe jaar oor die wêreld regeer.

Valse vrede en eenheid sal vir die eerste 3½ jaar heers terwyl ‘n verenigde mensdom in sy eie prestasies roem.

Ná 3½  jaar sal die Antichris homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar.

‘n Ongekende skrikbewind van terreur sal deur hom ingestel word.

Christene en Jode sal erg deur hierdie sataniese diktator en sy militêre magte vervolg word.

Die Here se oordele sal in dié 7 jaar oor ‘n rebelse wêreld uitgestort word soos nooit tevore nie.

Christus sal die wêreld vanaf die herstelde troon van Dawid as Koning van die konings uit Jerusalem regeer.

Die hele oorblyfsel van Israel sal in hulle land herstel word en grootliks deur die Here geseën en gebruik word om sy lof te verkondig.

Die duiwel sal vir ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put gebind word.

Ware vrede en geregtigheid sal op aarde heers, en daar sal nie meer oorloë gevoer en  word nie.

Die Christene sal verheerlikte liggame hê en as konings in die millennium regeer.

Die herstelde Israel sal evangelisasiewerk oral op aarde doen, en só hulle roeping as volk van God vervul.



3. Profetiese Raamwerk in die Evangelies

Mattheus en Lukas het dieselfde evangelie-boodskap verkondig, maar dit op verskillende groepe mense toegepas. Kennis van hierdie verskille en aanvullende perspektiewe sal ons help om die kenmerke en profetiese rolle van Israel en die kerk van mekaar te kan onderskei.

Jesus Christus is die grootste profeet wat hierdie aarde ooit betree het. In sy onderrig en gelykenisse het Hy duidelike uiteensettings van die geestelike toestand van mense gedoen en ondubbelsinnig die weg tot vergifnis en verlossing aangetoon. Hy het ook dramatiese onthullings oor die nabye én verre toekoms gedoen, en dikwels na die eindtyd nét voor sy wederkoms verwys. Die laaste week voor sy kruisiging het Hy sy dissipels verbyster deur ‘n verklaring dat Jerusalem vernietig en van die indrukwekkende tempelgebou nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie. Angstig het hulle Hom uitgevra: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? (Matt. 24:3; die Griekse teks gebruik die term aioon wat op bedeling dui, eerder as op wêreld, en verwys dus na die einde van die kerkbedeling net voor die wederkoms van Jesus Christus).

In die rede wat op hierdie vraag gevolg het, word verskillende belangrike gebeurtenisse van onmiddellike belang vir Jerusalem en die Joodse volk behandel, asook ‘n oorsig oor wêreldtoestande net voor die wederkoms. Ten einde die volgorde van die gebeure reg te kan vertolk, asook die groep(e) op wie dit betrekking het (Jode, nasies of die kerk), is dit nodig om die profetiese rede uit die oogpunt van die drie sinoptiese Evangelies te bestudeer.

Daar is grondige redes vir die verskillende aanbiedings van die profetiese rede deur Mattheus en Lukas (Markus se weergawe is feitlik dieselfde as dié van Mattheus). Die inagneming van hierdie verskille sal ons daarvan weerhou om net die tipies Joodse scenario van Mattheus te lees en dan verkeerdelik die toekoms van die kerk daarin te sien.

Die perspektief van Mattheus

Hierdie Evangelie is hoofsaaklik uit ‘n Joodse oogpunt geskryf, en dit is opvallend dat die eerste plek in die koninkryk van God dikwels aan Jode toegesê word. Uit die eerste sendingopdrag aan die twaalf apostels blyk dié voorkeurposisie duidelik. In die tyd voor die nasionale verwerping van Jesus deur die Jode, is die opdrag aan die dissipels gegee om nie na die Samaritane (heidene) met die evangelie te gaan nie, maar net na “die verlore skape van die huis van Israel” (10:5-6). Jesus het in noue aansluiting hierby gesê dat Hy net na die verlore skape van die huis van Israel gestuur is (15:24; vgl. ook 19:28).

In Mattheus word ‘n positiewe standpunt ten opsigte van die wet gestel en die toepaslikheid daarvan as goddelike riglyne vir geestelike en morele norms bevestig (5:18-19). Jesus sê dat Hy nie gekom het om die wet te ontbind nie, maar te vervul (5:17). Die wet is in die Messias se Nuwe Testamentiese wet van liefde teenoor God en liefde teenoor ons naaste vervul (22:36-40). “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (22:40; vgl. ook Rom. 13:8-10).

Die skrywer van hierdie Evangelie is sterk daarop ingestel om die verband tussen die Ou- en die Nuwe Testament aan te toon, en veral die wyse waarop die oue in die nuwe vervul is. Om hierdie rede verwys Mattheus dikwels na die Ou Testament deur onder meer 43 woordelikse aanhalings, benewens nog 22 sinspelings, om sodoende aan ‘n ongelowige en skeptiese volk die bewyse te lewer dat die lewe en werk van Jesus in die fynste besonderhede die vervulling van Ou Testamentiese profesieë is.

Dit is die rede vir die besondere aanbieding van feite oor die maagdelike geboorte en naamgewing van Jesus, sy tydelike verblyf in Egipte en vestiging daarna in Nasaret, die feit dat Hy siekes gesond gemaak, in gelykenisse gespreek, Jerusalem op ‘n esel binnegery en uiteindelik deur sy dissipels verlaat is, “sodat vervul kon word wat God deur die profete gespreek het” (1:22; 2:15, 23; 8:17; 12:17; 13:35; 21:4; 26:54). Ander belangrike besonderhede soos sy geboorte in Betlehem, die ongeloof van die Joodse volk, die aanstoot wat mense aan Hom sou neem en die feit dat Hy vir 30 silwerstukke verkoop sou word, word telkens aan Ou Testamentiese profesieë gekoppel (2:5; 13:14-15; 26:31; 27:9). Hierdie aanhalings van bewysplase uit die Ou Testament is nie naastenby so prominent in die ander Evangelies nie.

As ‘n oorwegend Judaïstiese werk hou Mattheus vir Jesus baie duidelik as Messias van die Jode voor. Sy geslagsregister word aangehaal tot by Abraham wat die eerste Hebreër was, en nie tot by Adam soos wat Lukas dit doen nie. Sterk klem word op sy afkoms van Dawid gelê (1:1, 20; 9:27; 12:23; 15:22; 20:30-31; 21:9, 15; 22:42-45). Verder dien Jesus se geslagsregister as afdoende bewys daarvan dat Hy op die troon van Dawid aanspraak kan maak (kyk ook 2:2). In elk geval vervul Jesus as gevolg van sy wonderbaarlike verwekking deur die Heilige Gees in die maagd Maria die meer verhewe Ou Testamentiese verwagtings met betrekking tot die Messias, deurdat dit Hom in ‘n baie unieke sin die Seun van sy hemelse Vader maak. Omdat Hy God die Seun is (11:27) kan Hy regmatiglik die titel ‘Emmanuel’ (‘God met ons’) op Homself toepas (1:23). Hy is die bonatuurlike ‘Seun van die mens’ wie se koms baie duidelik deur die profeet Daniël voorspel is (Dan. 7:13-14), en wat in die tyd van die einde (Dan. 12:4) op sy heerlike troon sal sit om die nasies te oordeel (16:27; 24:30; 25:31; 26:64).

Die Messias se koninkryk is ‘n baie algemene onderwerp in dié Evangelie. God die Vader vertrou die heerskappy oor sy koninkryk aan sy Seun, die Messias, toe wat met sy wederkoms op die troon sal sit (25:34, 40). Dit word dus baie duidelik as ‘n eskatologiese koninkryk beskryf wat in die eindtyd geopenbaar sal word wanneer die Messias op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid sal kom (24:30).

Ooreenkomstig die algemene benadering in die Evangelie van Mattheus word die profesieë só bespreek dat hulle primêr op die toekoms van die (ongeredde) Joodse volk betrekking het. Die tydsraamwerk wat vir hierdie profesieë gebruik word, is twee geslagte: die eerste is die geslag wat op die verwerping van Jesus as Messias gevolg het (23:34-36), en die ander een die geslag wat direk voor sy wederkoms verloop (24:32-34).

Die eerste geslag het begin met Jerusalem (die setel van regering en kern van die Joodse volk) wat vir Jesus as Messias verwerp het, en hierdie geslag het met die vernietiging van Jerusalem geëindig (23:37-38). Profesieë wat in die eerste geslag vervul is, is die vernietiging van Jerusalem en die tempel deur Israel se vyande – tot só ‘n mate dat nie een klip op die ander gebly het wat nie afgebreek is nie (23:37; 24:1-2). Aan die einde van hierdie gelsag sou Jerusalem verlate en sy inwoners óf dood óf verstrooid wees (23:38). Hierdie profesieë is in 70 n.C. met die beleg en inname van Jerusalem deur ‘n Romeinse mag, letterlik vervul. Dit het byna 40 jaar ná die begin van die kerkbedeling gebeur, en dien as ‘n bewys dat God steeds met Israel as ‘n afsonderlike volk handel – hulle is nie deur die kerk vervang nie. Hoewel geredde Jode in hierdie bedeling lede van die kerk van Christus word, verander dit geensins aan die feit van Israel se unieke profetiese toekoms as ‘n volk nie.

Die laaste geslag sou met die herstel van Jerusalem na Joodse beheer begin, in voorbereiding op nóg ‘n geleentheid wat Israel as volk sal hê om Jesus as Messias te aanvaar. Nadat Hy tydens sy eerste koms deur die Jode verwerp is, het Jesus gesê dat Hy sou weggaan, maar wanneer Hy weer terugkom, sal Israel Hom as hulle beloofde Messias-Koning aanvaar: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (23:39). Die Jode spreek hierdie aanhaling uit Psalm 118:26 elke jaar in ‘n liturgiese gebed tydens die loofhuttefees uit, sonder om te besef dat dit in werklikheid op Jesus as Messias betrekking het.

Jesus het aan die ongelowige Jode gesê dat hulle voor sy wederkoms deur die groot verdrukking sou gaan (24:21). Hierdie tyd van verdrukking sal deur die opkoms van valse christusse (valse messiasse) en valse profete gekenmerk word (24:4-5, 11, 24) wanneer ‘n valse messias na hulle toe sal kom en voorgee dat hy die ware Messias is (24:23-27). Dit sal ook ‘n tyd van oorloë, hongersnode, pessiektes, aardbewings en die hewige vervolging van Israel wees (24:6-7, 9).

Mattheus wy ‘n lang gedeelte aan die eindtydse vlug van die Jode uit Judea na die berge (24:15-22). Hy koppel die vertrekpunt van hierdie gebeurtenis duidelik aan die ontheiliging van die tempel in Jerusalem deur die valse messias: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug” (24:15-16). Daniel (9:27) sê dat hierdie gebeurtenis in die middel van ‘n jaarweek (‘n periode van 7 jaar) sal plaasvind. Die valse messias sal dus ‘n sewe jaar lange verbond met Israel sluit, maar in die middel van hierdie tyd sal hy die tempel ontheilig deur homself tot God te verklaar en ‘n afskuwelike beeld van homself in die Allerheiligste te laat oprig.

Die Jode wat sal weier om die valse messias in sy hoedanigheid as selfverklaarde God te aanvaar, sal vinnig voor sy leërs uit moet vlug. Volgens Jesus moet hulle bid dat hulle vlug nie in die winter of op die Sabbat is nie (hulle sal dus ortodokse Jode wees), “want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af… nie gewees het nie” (24:20-21).

Die Here sal dié vlug toelaat om die Jode van totale uitwissing deur die valse messias te red. Die voortvlugtendes sal steeds geweldige benoudheid en swaarkry ervaar omdat hulle in die “tyd van benoudheid vir Jakob” sal wees (Jer. 30:7). Aan die einde van hierdie jaarweek van verdrukking sal die Messias tydens sy wederkoms na Jerusalem terugkeer (24:29-30; uit Sag. 14:4 weet die Jode dat die Messias na Jerusalem kom). Die oorlewende Jode sal aan Hom sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (23:39).

Die perspektief van Lukas

Hierdie Evangelie wat aan Theofilus, ‘n hooggeplaaste amptenaar in Rome, opgedra en daarna ook in Antiochië versprei is, is hoofsaaklik vir ‘n nie-Joodse leserskring bedoel. Vir Lukas is die strekking van die evangelieboodskap opvallend meer universeel omdat dit vir alle mense ongeag hulle volksverband, klas of stand bedoel is. In hierdie wye perspektief misken hy nie die Joodse konnotasies van die evangelie nie, maar trek die lyne aansienlik breër om ook die wêreldwye doelstellings daarvan te beklemtoon.

So byvoorbeeld verstrek Lukas nie slegs ‘n Joodse geslagsregister vir Jesus, soos wat Mattheus doen nie, maar hy voer dit terug tot by Adam. Christus spreek dus alle nasate van Adam aan – nie slegs dié van Abraham, Isak en Jakob nie – omdat Hy vir ons almal mens geword het “om te soek en te red wat verlore was” (19:10).

Hierdie benadering blyk duidelik uit die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (10:25-37), asook uit die teregwysings aan die Jode vir hulle onverdraagsaamheid teenoor die Samaritane (9: 51-56). In Lukas 17:11-19 word daarop gewys dat ná die genesing van die tien melaatses slegs een, ‘n Samaritaan, omgedraai het om God te verheerlik. In Lukas 10:1-24 word 70 dissipels uitgestuur om die evangelie nie net na die Joodse inwoners van die omliggende dorpe uit te dra nie, maar ook na die heidene.

In sy profetiese oorsig bespreek Lukas nie slegs die lotgevalle van die ongelowige Joodse volk nie, maar ook van die Messiaanse gelowiges, die nie-Joodse Christene en die nasies. Die Messiaanse gelowiges se beloofde ontvlugting voor die vernietiging van Jerusalem in die eerste geslag, word deur Lukas beskryf (21:20-22) maar nie deur Mattheus nie. Lukas gaan dan voort om “die tye van die nasies” te noem (21:24) wat vanaf die eerste geslag tot diep in die laaste geslag van die huidige dispensasie strek. Mattheus het nie hierdie lang tydperk genoem nie, omdat hy hom net met die heilsgeskiedenis van Israel bemoei het (dieselfde benadering word ook deur ander Joodse profete gevolg, bv. Daniël (9:24-27), wat geen aanduiding van die lang tydsgaping van nie-Joodse geskiedenis tussen die 69ste en 70ste jaarweke in sy profesie oor Israel gegee het nie.

Die herstel van Jerusalem sou die einde van die tye van die nasies inlui omdat “Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (21:24). Lukas gaan hierna voort om ‘n tyd van wêreldwye benoudheid onder die nasies te beskryf, wat op die wederkoms van Christus sal uitloop (21:25-27). Die groot verdrukking word nie in enige detail deur Lukas beskryf nie – hy noem ook nie die vlug van die Jode ná die ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking, soos wat Mattheus doen nie. Lukas bied net ‘n kort opsomming van die groot benoudheid en kosmiese tekens van die verdrukking, en bied dan ‘n sekere manier aan om dit te ontvlug: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (21:36). Mattheus maak nie van die belofte van ontvlugting voor die verdrukking melding nie, omdat die Joodse volk as gevolg van hulle geestelike blindheid deur die tyd van die benoudheid van Jakob moet gaan.

Uit die verskillende perspektiewe van Lukas en Mattheus is dit baie duidelik dat die belofte van ontvlugting voor die verdrukking net aan Jesus se dissipels gemaak word (21:36). Dit is verder ook duidelik dat sy dissipels in die eindtyd hoofsaaklik nie-Jode sal wees (24:47). Hulle word aangemoedig om waaksaam en biddend te wees sodat hulle waardig sal wees om die tyd van oordele te ontvlug en in die geseënde teenwoordigheid van die Seun van die mens te wees!

Deur ‘n ontsnappingsroete aan eerste geslag- én laaste geslag-gelowiges te bied (21:20-21; 36), bevestig Jesus die feit dat die gelowiges nooit saam met die ongelowiges geoordeel word nie. Soos in die dae van Noag en Lot, moet die gelowiges eers uit die rampgebied van goddelike oordele verwyder word voordat die toorn van God oor die ongelowiges uitgestort word.

‘n Finale vergelyking

In Lukas word die eindtydse scenario duidelik aan die beëindiging van die vertrapping van Jerusalem deur die nie-Joodse nasies verbind (21:24). Dit dien hier vermeld te word dat Bybelse Jerusalem (die Ou Stad, wat ook as die Stad van Dawid bekend staan) in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 fisies deur Israel herower is, terwyl die politieke herstel van die stad tot sy eertydse status as hoofstad van Israel in Augustus 1980 plaasgevind het. Hierdie gebeurtenisse het die laaste geslag voor die wederkoms van Christus ingelui (Matt. 24:34; Luk. 21:32).

Volgens Mattheus en Lukas se profetiese perspektiewe is die begin- en eindpunte van die twee kritieke geslagte in die huidige bedeling tussen die eerste en tweede koms van Jesus soos volg:

Die eerste geslag: Hierdie geslag het met die verwerping en kruisiging van Jesus as Israel se Messias-Koning begin, en is deur die beleg en vernieting van Jerusalem beëindig. Baie Jode is in die aanval deur ‘n groot Romeinse mag dood, terwyl die oorlewende inwoners van Jerusalem krygsgevange geneem is en na baie nasies verstrooid geraak het. Gedurende die eerste geslag het Israel en die kerk saam bestaan, maar Israel is weens die verwerping van die Messias as instrument vir wêreldevangelisasie uitgefaseer, terwyl die kerk van Christus onder alle nasies ingefaseer is om hierdie opdrag uit te voer.

Die tye van die nasies: Die lang tydperk tussen die eerste en laaste geslag word as “die tye van die nasies” beskryf (21:24). In hierdie tyd kry die ganse nie-Joodse wêreld (insluitende die verstrooide Jode) die geleentheid om lede van die koninkryk van God te word deur vir Jesus as Messias en Verlosser aan te neem en weergebore te word (Mt. 28:18-20; Lk.24:45-49).

Die laaste geslag: Hierdie geslag het met die herowering en politieke herstel van Jerusalem deur Israel begin. Gedurende hierdie geslag bestaan Israel en die kerk aanvanklik saam, maar voor die finale sewe jaar van hierdie geslag (die 70ste jaarweek van Daniël) sal die kerk by wyse van die wegraping uitgefaseer word (Luk. 21:36) terwyl Israel geleidelik as die geestelik herstelde volk van God ingefaseer sal word. Die eerste fase van hulle geestelike herstel sal die redding van 144 000 Jode vroeg in die verdrukking wees, terwyl die hele oorblyfsel van die volk aan die einde van die verdrukking gered sal word wanneer die Messias na die Olyfberg in Jerusalem terugkeer (kyk Sag. 14:4-5). Op daardie dag sal die oorblyfsel van Israel aan Hom sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39; kyk ook Sag. 12:10; 13:1, 9).

 

4. Futurisme en Historisme

Profesieë oor die Antichris, die groot verdrukking en verwante gebeure moet nie histories verklaar word nie, maar futuristies. Ten spyte van die opbouende militêre konflik in die Midde-Ooste, is daar baie mense wat steeds beweer dat die groot verdrukking iewers in historiese tye plaasgevind het. Hulle huldig die onbybelse siening dat ons nou op ‘n utopia afstuur, en dat die wêreld gevolglik nie op die vooraand van die openbaring van die Antichris is nie.

Die meeste kerke en Christelike organisasies het as gevolg van die historiese interpretasie van Bybelse profesieë oor die eindtyd, geen duidelike toekomsverwagting nie. Hulle is van mening dat ons iewers in die vroeëre of latere kerkgeskiedenis na die Antichris en die groot verdrukking moet soek. Sommiges van hulle beweer dat die verdrukking in die eerste eeu tydens die bewind van keiser Nero [as die Antichris] plaasgevind en op die vernietiging van Jerusalem in die jaar 70 n.C. uitgeloop het. Ander beweer dat die donker Middeleeue die groot verdrukking was, en dat die rol van die Antichris deur verskeie van die pouse vervul is. Dan is daar ook diegene wat Wêreldoorlog II as die groot verdrukking sien, en Hitler as die Antichris. Al hierdie sienings is egter hoogs subjektief en situasiegebonde omdat elke groep vir hulleself een of ander antichristelike diktator [bv. Nero, die pous of Hitler] uitsonder en dan al die profesieë oor die Antichris aan hom toeskryf.

Die historiese skool maak ook die wederkoms van Christus van die groot verdrukking los, terwyl dit uit die Bybel duidelik is dat Christus se sigbare verskyning op die Olyfberg reg aan die einde van die groot verdrukking sal plaasvind: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn…” (Matt. 24:29-30).

Op daardie dag sal die Antichris en die valse profeet albei lewende persone wees. Die Antichris sal deur die verskyning van Christus se wederkoms verdelg word (2 Thess. 2:8), en hy sal saam met die valse profeet lewendig in die vuurpoel gegooi word (Op. 19:20). Die Antichris is dus nie ‘n historiese persoon nie, maar baie duidelik ‘n eindtydse wêreldleier.

Die historiese siening van Bybelse profesieë sal nou aan ‘n skriftoets onderwerp word. As uitgangspunt sal die teorie beoordeel word dat Wêreldoorlog II die groot verdrukking was. Al die argumente kan egter ook gebruik word om ander historiese sienings te diskrediteer.

Die vraag is: Kan die vervolging van Jode in die Tweede Wêreldoorlog as die finale vervulling van Bybelse profesieë oor die groot verdrukking beskou word? Die antwoord hierop is ‘n uitdruklike nee! Die komende verdrukking van sewe jaar is ‘n goed ontwikkelde tema in Bybelse profesieë, wat nie met Wêreldoorlog II of enige vroeër tydperk in die geskiedenis van die mensdom gelykgestel kan word nie. Die volgende tien Bybelse redes kan ten gunste van ‘n toekomstige verdrukking en regering deur die Antichris aangevoer word:

1. Voorwaardes vir die verdrukking

Israel moet na hulle land terugkeer voordat die eindtydse handelinge van God met hulle as volk kan begin: “Daarom, sê vir die huis van Israel… Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in julle land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig” (Eseg. 36:22-25). Hieruit is dit duidelik dat Israel in ongeloof uit hul internasionale verstrooiing herstel sal word. Hulle fisiese herstel sal ook voortgaan totdat hulle die grootste enkele groep Jode in die wêreld is, en dus in ‘n posisie om besluite namens alle Jode te neem. Slegs dan sal gebeurtenisse begin plaasvind wat na hulle geestelike herstel as volk sal lei. Hulle groot eindtydse benoudheid en daaropvolgende geestelike herlewing sal gedurende die sewe jaar lange verdrukking gebeur, omdat dit ‘n belangrike tydperk in hulle nasionale heilsgeskiedenis is (Dan. 9:24-27). In daardie stadium moet baie van hulle in hul land terug wees.

Die profeet Daniël beskryf die komende verdrukking as ‘n jaarweek (Dan. 9:27; kyk ook Lev. 25:3-8). Volgens die profetiese tydskaal van die Bybel is ‘n jaarweek ‘n tydperk van sewe jaar van 360 dae elk, waarin elke maand 30 dae lank is. Uit Daniël 9:27 en Openbaring 11:2-3; 12:14; 13:5 is dit duidelik dat die sewe jaar van die verdrukking in twee afsonderlike periodes van 3½ jaar [m.a.w. 42 maande of 1260 dae elk] verdeel is – elkeen met sy eie besondere kenmerke.

In die eerste 3½ jaar sal Israel ‘n verbond met die valse messias sluit, wat sal voorgee dat hy die ware Messias is (Dan. 9:27; Joh. 5:43). Hulle sal dan ook die derde tempel op die Tempelberg in Jerusalem bou (Op. 11:1-2). Dit sal ‘n tyd van valse vrede wees wanneer ‘n antichristelike nuwe wêreldorde van internasionale godsdienstige en politieke eenheid gevestig sal word. In die middel van die verdrukking [ná 3½ jaar] sal die Antichris die herboude tempel ontheilig deur die Allerheiligste te betree en homself daar tot God te verklaar (2 Thess. 2:4). ‘n Gruwelike beeld van homself sal in die tempel opgerig en mense oral gedwing word om dit te aanbid (Op. 13:14-15). Slegs dan sal die groot verdrukking van 3½ jaar begin. Oor hierdie tyd van benoudheid en verskrikking het die Here Jesus aan die Jode gesê:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees oplet – dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug… En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:15-21).

Dit is baie duidelik dat die groot verdrukking van 3½ jaar slegs kan begin nadat Israel in hulle land herstel is, die herinbesitname van Jerusalem en die Tempelberg, die openbaring van die Antichris en Israel se verbondsluiting met hom, en die herbouing en ontheiliging van die tempel.

Israel is in Mei 1948 as ‘n onafhanklike volk erken. Die Ou Stad van Jerusalem is in Junie 1967 van Jordanië herower. In Augustus 1980 is Jerusalem se politieke status as Israel se administratiewe hoofstad herstel. Die toneel is nou gereed vir die openbaring van die Antichris, die begin van die sewe jaar lange verdrukking en die bou van die tempel op sy bestemde plek reg oorkant die Oospoort op die Tempelberg. Hierdie omstandighede het nie tydens Wêreldoorlog II, of in enige vroeër tydperk in die kerkbedeling, bestaan nie.

2. Die Wegraping en Dag van die Here

‘n Ander voorwaarde vir die begin van die verdrukking is die wegraping. Die kerkbedeling sal formeel deur die wegraping beëindig en deur die bedeling van die Antichris se regering op aarde gevolg word. Die komende sewe jaar-tydperk vorm ook deel van die dag van die Here wanneer Hy as Regter en Koning aan die wêreld geopenbaar sal word. God sal sy toorn oor die bose en onbekeerlike nasies uitstort, waaronder ook die herstelde Israel. Daar is beslis geen plek vir die ware kerk in hierdie tyd van oordeel nie, want daar is “geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1). “God het ons nie bestem tot toorn nie” (1 Thess. 5:9). Soos in die tyd van Noag en Lot, sal die Here eers die gelowiges uit die rampgebied van goddelike oordele wegneem.

Die verdrukkingsperiode sal begin wanneer Israel en die nasies die Antichris uit eie keuse sal aanvaar en aanbid. Wanneer hy 3½ jaar later teen hulle draai deur ‘n militêre diktatuur in te stel, sal hulle terselfdertyd ook die toorn van die Here beleef wanneer die kragte van die hemele geskud sal word en mense se harte sal beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom (Luk. 21:25-26). Die goddeloses sal in paniek na die berge vlug (Op. 6:15-17).

Hoewel baie mense gedurende die verdrukking gered sal word, sal hulle nie in die kerkbedeling wees nie en dus nie op die belofte aanspraak kan maak dat die poorte van die doderyk die kerk nie sal oorweldig nie (Matt. 16:18). In daardie tyd sal die Antichris teen die heiliges oorlog voer en hulle oorwin (Op. 13:7). Hulle sal wél gered kan word, maar sal as martelare moet sterf omdat hulle sal weier om die Antichris se merk te aanvaar en hom te aanbid (Op. 6:9-11; 13:15).

Wêreldoorlog II het in die kerkbedeling plaasgevind en kan op geen manier as die dag van die Here beskryf word nie omdat dit nie met groot natuurrampe en goddelike oordele gepaard gegaan het nie. Oordele van hierdie aard sal eers ná die wegraping ‘n aanvang neem. Die sondaars sal dan duidelik besef dat die groot dag van God se toorn aangebreek het (Op. 6:17).

3. Die 144 000 geredde Jode

Die redding van 144 000 spesiale diensknegte van God onder die twaalf stamme van Israel (Op. 7:3-8) is ‘n onweerlegbare bewys dat hulle nie deel van die kerkbedeling vorm nie, maar van die toekomstige 70ste week van Daniël. Gedurende die kerkbedeling word geredde Jode deel van die kerk, wat die liggaam van Christus onder alle nasies is (Gal. 3:27-28; Kol. 3:11). Eers nadat die kerkbedeling deur die wegraping beëindig is, sal die tyd vir Israel se nasionale geestelike herstel in die 70ste week van Daniël begin. Geredde Jode sal dan uitdruklik as lede van ‘n bepaalde stam van Israel geïdentifiseer word. Hulle sal die eerste groep in die geestelike herlewing van Israel wees. Ons is tans nog steeds in die kerkbedeling, daarom is hierdie besondere Joodse herlewing nog toekomstig.

4. Fokus op Jerusalem

Die komende groot verdrukking sal ‘n wêreldwye verskynsel wees (Luk. 21:25-26), maar een van sy fokusgebiede sal die Midde-Ooste wees en, spesifiek, die stad Jerusalem. Gedurende die tyd van die benoudheid van Jakob sal die geestelik verblinde volk van Israel aan hewige verdrukking onderwerp word, sodat ‘n oorblyfsel van die volk gered kan word. Die Bybel verwys uitdruklik na hierdie tyd van groot beproewing en loutering in Jerusalem en omstreke:

“…die huis van Israel het vir My skuim geword… Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt… en julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (Eseg. 22:18-22; my beklemtoning).

Aangesien Bybelse Jerusalem [die Ou Stad] eers in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 deur Israel verower is, is dit duidelik dat die bogenoemde profesieë van Eségiël slegs ná hierdie datum vervul kan word. Sedert hulle herstel in 1948 het Israel al die oorloë teen hulle Arabiese bure gewen, en is dus in beheer van die situasie in hulle land en ook in Jerusalem. Dit is slegs nou, te midde van die stygende konflik tussen Israel, die Palestyne en die ander Arabiese- en Moslemlande, dat die druk skerp op Israel toeneem om hulle land en hoofstad, Jerusalem, te verdeel en die een deel aan die Palestyne te oorhandig. Al hoe meer nasies (ook in die Weste) veroordeel Israel ten onregte oor hulle militêre optrede en standpunt oor Jerusalem, en verhaas sodoende die vervulling van die volgende profesie:

“Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring van Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word” (Sag. 12:2-3).

God sal die nasies oordeel wat Israel vervolg en druk op hulle uitgeoefen het om hulle land te verdeel (Joël 3:1-2). Hy sal ook oor Israel groot benoudheid toelaat tydens die beleëring van hulle land en hoofstad, sodat hulle in tye van ernstige benoudheid om redding tot die Here sal roep.

5. Verbond met die Antichris

Israel sal vir een jaarweek ‘n verbond met die valse messias sluit. Hierdie verbond sal egter net vir 3½ jaar lank hou, tot in die middel van die week (Dan. 9:27). Die Here Jesus het hulle teen hierdie ernstige oordeelsfout gewaarsku toe Hy gesê het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). In die middel van die week sal die Antichris in ‘n sluipmoordaanval sterf, maar hy sal deur sataniese magte uit die dood opgewek word (Op. 13:3, 12). Hy sal daarna ‘n beeld van homself in die herboude tempel laat oprig, en die doodstraf aankondig oor alle mense wat weier om hom as God te aanbid:

“En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel. En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak… En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank. … En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is” (Dan. 11:31-36). “En… almal [sal] gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie” (Op. 13:15).

Niks wat selfs eers vaagweg met Israel se toekomstige verbond met die Antichris ooreenstem, of met die Antichris se optrede in die tweede helfte van die jaarweek, het gedurende Wêreldoorlog II, of in enige ander tydperk in die geskiedenis, gebeur nie. Omstandighede is nou eers vir die vervulling daarvan gereed.

6. Herbouing van die Tempel

Die eerste helfte van die verdrukking sal ook deur die herbouing van die tempel in Jerusalem gekenmerk word. Daar is verskeie verwysings in die Bybel na die bou van die derde tempel in Jerusalem wat deur die Antichris ontheilig sal word. Daniël 9:27 sê dat in die middel van die week [die verdrukking van 7 jaar] sal die Antichris “slagoffer en spysoffer laat ophou.” Volgens Daniël 11:31 sal die magte van die Antichris “die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.” Daarna sal net die aanbidding van die Antichris as God toegelaat word. Die Here Jesus het teen hierdie bose sameswering gewaarsku toe Hy gesê het: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan sal daar groot verdrukking wees” (Matt. 24:15, 21).

Paulus het na dieselfde scenario verwys toe hy die Antichris beskryf het as “die mens van sonde… die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3-4). Openbaring 11:1-2 sê dat die herboude tempel 42 maande [3½ jaar] lank deur die heidene vertrap sal word. Die derde tempel word hierdeur duidelik binne die raamwerk van Daniël se 70ste jaarweek geplaas. Ná die ontheiliging daarvan sal die tempel vir die oorblywende 3½ jaar tot by die wederkoms van Jesus misbruik en vertrap word. Hierdie getuienis alleen weerlê enige teorie dat Wêreldoorlog II en die vervolging van die Jode deur Hitler se Nazi-magte die groot verdrukking vir Israel was. Sedert die vernietiging van die tweede tempel in 70 n.C. is die Joodse tempel in Jerusalem nog nooit weer herbou nie.

7. Vlug na die Woestyn

Wanneer die Antichris homself in die tempel tot God verklaar en Israel weier om hom in hierdie hoedanigheid te aanbid, sal hy die agtervolging en uitwissing van alle Jode gelas wat na die berge van Judéa sal wegvlug. Hulle sal dan na die woestyn vlug [waarskynlik na Petra in die Negev woestyn, suid van die Dooie See] waar hulle “uit die gesig van die slang onderhou [sal] word, ‘n tyd [een jaar] en tye [twee jaar] en ‘n halwe tyd [ses maande]” (Op. 12:14). Gedurende die laaste 3½ jaar, waarna as die groot verdrukking verwys word, sal die Here ‘n oorblyfsel van Israel beskerm en versorg om aan die lewe te bly tot met die koms van die Messias op die Olyfberg (Sag. 14:4-5). Hierdie tyd van ontvlugting na die woestyn is duidelik die laaste 3½ jaar voor die koms van Jesus Christus, en is beslis nog toekomstig.

8. Verdrukking tot Redding

Die komende groot verdrukking sal tot die redding van die hele oorblyfsel van Israel lei. Die Here sê: “In hulle nood sal hulle My soek” (Hos. 5:15). Hulle kwaai verdrukking tydens die verskriklike dag van die Here sal tot hulle redding wees: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). Teen die einde van die groot verdrukking, omsingel deur die magte van die Antichris, sal die oorblyfsel van Israel na die Olyfberg optrek in afwagting op die koms van die Messias aan die einde van die 70ste jaarweek. Die Heilige Gees sal oor hulle uitgestort word en hulle sal almal gered word: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10). “Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 13:9).

Nie slegs ‘n oorblyfsel van Israel nie, maar ook van die ander nasies, sal gered word wanneer Jesus aan die einde van die verdrukking terugkom aarde toe: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae… sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Die vervolging van die Jode in Wêreldoorlog II het nie eers naastenby na ‘n reaksie van dié aard gelei nie, want dit was nog nie die tyd van die 70ste jaarweek van Daniël en van die koms van die Messias nie.

9. Tekens van die Tye

Die tekens van die tye wat in Mattheus 24 bespreek word, het hoofsaaklik betrekking op Israel in die komende tyd van verdrukking. Die Here Jesus praat hier met die Jode wat deur die verdrukking sal gaan. Hy verwys ook na hulle vlug woestyn toe in die middel van die verdrukking, asook na die invloed wat klimaatsomstandighede en Israel se sabbatswette op hulle vlug kan hê (24:15-21). Vir hulle sal die begin van die smarte in die eerste helfte van die jaarweek aanbreek, en die groot verdrukking in die tweede. Die oorloë, hongersnode, pessiektes en aardbewings sal ook elders in die wêreld voorkom.

Hoewel daar beslis ‘n aanloop tot die verdrukkingsperiode is, sou dit verkeerd wees om Wêreldoorlog I en II as die oorloë te beskou waarna Jesus verwys het. Daar sal baie oorloë wees wat die verdrukkingstyd sal kenmerk. Die eerste groot oorlog sal die Russies/Arabiese inval in Israel wees (Eseg. 38 en 39). Daarna sal Israel ook direk geraak word deur oorloë tussen die Antichris as die koning van die Noorde, en Egipte as die koning van die Suide [rigtings soos vanuit Israel waargeneem] (Dan. 11:40-42). Die Antichris sal verder ook teen verskeie ander nasies oorlog voer (Dan. 11:44). Teen die einde van die groot verdrukking sal alle nasies teen Israel gemobiliseer word (Sag. 12:3; 14:2) en ook teen hulle komende Messias-Koning (Op. 19:19). Bose geeste sal die konings van die aarde aanhits om hulle leërs in Israel te ontplooi (Op. 16:13-16).

10. Die Stryd om Jerusalem

Jerusalem is ‘n stad met ‘n baie besondere betekenis. Wanneer die Here Jesus terugkom, kom Hy na Jerusalem toe terug: “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê aan die oostekant” (Sag. 14:4). Ná sy terugkeer sal Christus die vervalle hut van Dawid weer oprig (Hand. 15:16-17) en dan van die herstelde troon van Dawid af regeer (Luk. 1:32). “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). “Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. Hy sal oordeel oor die nasies en regspreek oor baie volke…” (Jes. 2:3-4).

Met die wederkoms van Christus moet die Jode terug wees in hulle land – ook in die stad Jerusalem. “…elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het” (Op. 1:7). Die Jode is sedert 1948 terug in hulle land, en sedert 1967 beheer hulle ook die stad Jerusalem. In 1980 is Jerusalem tot die ewige, onverdeelde hoofstad van Israel verklaar. Die destydse eerste minister, mnr. Begin, het toe sy kantoor van Tel Aviv af na Jerusalem verskuif.

Die eindtydse stryd om die beheer oor Jerusalem het ‘n nuwe dimensie betree toe Israel die Ou Stad [waarvan die Tempelberg deel is] in Junie 1967 van Jordanië verower het. Die magte van die duisternis weet verseker dat dié een wat in die toekoms sy koninkryk in Jerusalem vestig, ook oor die hele wêreld sal regeer. Dit is die rede waarom die Antichris homself in Jerusalem tot God, en dus ook tot opperheerser van die heelal, sal verklaar! Verskeie ander dramatiese gebeure sal in Jerusalem plaasvind, insluitende die groot oorlog tussen Christus en die Antichris (Op. 19:19-21; Dan. 11: 45). Die neerlaag van die Antichris sal in hierdie stad plaasvind op die dag wanneer die Messias kom, en dit sal vinnig en beslissend wees. Hy en die valse profeet sal saam verdelg word.

Wêreldoorlog II–Teorie só Weerlê

In die lig van die voorafgaande Bybelse getuienis kan die teorie waardeur die verdrukking met die vervolging van Jode in die Tweede Wêreldoorlog gelykgestel word, soos volg weerlê word:

·      Het Wêreldoorlog II sewe jaar lank geduur? Nee – dit het 5 jaar en 8 maande lank geduur.

·      Was Israel gedurende Wêreldoorlog II terug in hulle land? Nee.

·      Was groot getalle Jode woonagtig in Jerusalem en in die res van Israel sodat die Here hulle daar kon toets en louter? Nee.

·      Het Israel die tempel gedurende Wêreldoorlog II herbou en die offerdiens weer ingestel? Nee.

·      Het Israel na die berge van Judéa gevlug onderweg na ‘n plek in die woestyn waar hulle 3½ jaar lank geskuil het? Nee.

·      Het Israel ‘n verbond met die Antichris [na bewering met Hitler] gesluit en hom as die Joodse Messias erken? Nee.

·      Het Israel ‘n regering of ander erkende leiers gehad wat namens die volk verbonde kon sluit? Nee.

·      Het die Antichris homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar? Nee.

·      Is die Antichris [na bewering Hitler] deur die verskyning van Christus se wederkoms tot niet gemaak (2 Thess. 2:8) en in die poel van vuur gegooi (Op. 19: 20)? Nee.

·      Is Wêreldoorlog II onmiddellik deur die wederkoms van Christus gevolg? Nee.

·      Het die verdrukking van Wêreldoorlog II tot Israel se nasionale bekering gelei? Nee.

·      Is 144 000 Jode in ‘n herlewing vroeg in Wêreldoorlog II gered, deur God verseël en vir ‘n spesiale taak as evangeliste afgesonder, terwyl die ander lede van die volk die Antichris gedien het? Nee.

·      Was al die nasies in Wêreldoorlog II verenig in ‘n oorlog teen Israel en Jerusalem? Nee – die Jode is hoofsaaklik deur Duitsland se Nazi-magte vervolg en doodgemaak.

·      Is die Antichris se 666-verwante nommer op alle mense afgedwing? Nee.

·      Het die Antichris ‘n godsdienstige leier, die valse profeet, as mede-regeerder gehad? Nee.

·      Het die konings van die Ooste [Sjina en sy bondgenote] die Midde-Ooste met 200 miljoen soldate ingeval? Nee.

·      Is Babilon, wat eers sedert 1978 herbou word, gedurende Wêreldoorlog II vernietig? Nee.

·      Was Wêreldoorlog II die slag van Armageddon, met sy sterk fokus op Israel? Nee.

·      Is Israel se ongeregtighede en sonde deur hulle vervolging in Wêreldoorlog II beëindig, en het die tyd van ewige geregtigheid waarvan Daniël 9:24 praat, toe aangebreek? Nee.

·      Is die Jode aan die einde van Wêreldoorlog II met die Messias versoen, soos wat die geval sal wees aan die einde van die groot verdrukking (Sag. 12:10; 13: 1, 9)? Nee. As ‘n volk verwerp hulle nog steeds vir Jesus.

Die bogenoemde feite weerlê enige historiese vertolking van Bybelse profesieë oor die groot verdrukking en die openbare optrede van die Antichris – ongeag of hierdie tydperk na die eerste eeu, na die Middeleeue of na Wêreldoorlog II in die 20ste eeu teruggeskuif word. Hierdie profesieë is duidelik eindtyds en sal sekerlik op die wederkoms van Christus, die vernietiging van die antichristelike magte by die slag van Armageddon, die redding van die oorblyfsel van Israel en die vestiging van Christus se vrederyk op aarde uitloop.

Ons is baie naby aan die wegraping, waardeur die kerkbedeling beëindig sal word. Hierna sal die Antichris geopenbaar word. Sy verbond met Israel sal die 70ste jaarweek van Daniël inlui, wat die verdrukking sal wees – 3½ jaar van valse vrede, gevolg deur 3½ jaar van groot verdrukking soos wat die wêreld nog nooit geken het nie. Aan die einde van die sewe jaar sal Christus by sy wederkoms die Antichris en sy demoniese regering vernietig en daarna die troon van Dawid in Jerusalem herstel. Hy sal dan as Koning van die konings in sy beloofde vrederyk op aarde regeer.

Implikasies van die Historiese Siening

Baie mense huldig die mening dat dit nie regtig saak maak hoe jy Bybelse profesieë vertolk nie, solank jou verhouding met die Here net reg is. Dit is nie waar nie. Bybelse profesieë is om ‘n baie belangrike rede aan ons gegee, want dit is daarop ingestel om aan ons die regte perspektief op wêreldgebeure te gee en sodoende te help om ons verhouding met die Here reg te hou.

Mense wat Bybelse profesieë oor die eindtyd histories verklaar, loop geweldige risiko’s in hulle geestelike lewe. Die volgende is die tien belangrikste gevare wat hieraan verbonde is:

Dit bemoeilik jou taak om die opbou van antichristelike magte te kan verstaan

Mense wat alle profesieë oor die Antichris en die groot verdrukking as reeds vervuld in historiese tye beskou, het geen insig in – en ook geen Bybelse verklaring vir – die eindtydse opbouing van antichristelike magte nie. Omdat hulle nie op die toekomstige vervulling van profesieë oor die Antichris ingestel is nie, bemerk hulle glad nie die politieke, ekonomiese en godsdienstige magsbasisse wat nou vir die Antichris se wêreldregering, wêreldekonomie en sy alliansie van wêreldgodsdienste geskep word nie. Hulle sien dit eerder as positiewe ontwikkelings vir groter eenheid, en gee selfs hulle samewerking daaraan. Hulle het ook geen begrip vir die naderende onheil en oordele van God oor die aarde nie, en verkondig derhalwe ook nie die belofte van ontvlugting uit hierdie donker tydperk nie. Omdat alles so versleg, begin baie van hulle aan God te twyfel.

Dit belemmer jou opdrag tot weerstand

Omdat ons in “die teenwoordige bose wêreld” leef (Gal. 1:4), moet ons die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde wees. Die realiteit van ‘n toekomstige groot verdrukking waarin “die mens van sonde” oor die aarde gaan regeer (2 Thess. 2:3), veroorsaak dat ons verslegtende toestande beleef wat deur grootskaalse geestelike en morele verval gekenmerk word. Hoe kan ons effektief teen die ontluikende sonde-kultuur van die Antichris weerstand bied as ons nie eers glo dat daar só ‘n tyd en só ‘n persoon aan die kom is nie? Hoewel ons die Antichris nie sal sien nie, moet ons hom en sy ideologieë nogtans in hierdie aanloopfase sterk teëstaan. Met die wegraping kom die Here die “teëhouers” teen die mens van sonde haal (2 Thess. 2:6-8).

Dit lei tot verkeerde gevolgtrekkings

In die historiese skool word die Antichris se voorlopers tot die status van die finale Antichris verhef (vgl. 1 Joh. 2:18). Paulus het die slagoffers van die Romeinse Ryk se skrikbewind, waarin die Christene erg vervolg is, daaraan herinner dat dit nog nie die dag van die Here was nie (2 Thess. 2:1-2). So ook was nie een van die “antichristelike” pouse in die Middeleeue die finale Antichris nie. Hulle was almal antichriste in die kleine, soos ook Hitler, en as sodanig onder die baie wegbereiders vir die eindtydse Antichris wat ‘n lewende persoon sal wees wanneer Jesus kom (2 Thess. 2:8; Op. 19:9-20). Die eindtydse verdrukking sal die ergste van alle tye wees.

Dit ontneem jou van waarskuwings

‘n Historiese interpretasie van profesieë oor die eindtyd ontneem mense van finale waarskuwings oor die nabyheid van Christus se wederkoms. Omdat dié mense nie die herstel van Israel en die opbouing van antichristelike ideologieë en strukture as tekens van die eindtyd aanvaar nie, spreek die huidige wêreldgebeure hulle nie uitdruklik aan om vir die spoedige wederkoms van Jesus Christus gereed te maak nie. Hulle gaan dus houtgerus met ‘n materialistiese leefwyse voort en maak nie seker dat hulle waak en bid om waardig te wees om al hierdie dinge wat kom [die groot verdrukking van God se oordele en die Antichris se diktatuur] te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan nie (Luk. 21:36).

Dit laat jou geestelik aan die slaap raak

Indien ons nie die Here Jesus se spoedige koms verwag nie, is daar nie by ons so ‘n groot dringendheid om heilig te leef en sonder vlek of rimpel voor die hemelse Bruidegom te verskyn nie. Johannes sê dat elkeen wat die hoop op sy verskyning het, homself reinig soos wat Hy rein is (1 Joh. 3:2). Ons moet bid sodat die Here ons harte deur die Heilige Gees se werking sal versterk om onberispelik te wees in heiligheid by die wederkoms van Jesus Christus (1 Thess. 3:13). Die maagde wat nie meer die spoedige koms van die bruidegom verwag het nie, het aan die slaap geraak en op die kritieke oomblik nie genoeg olie in hulle lampe gehad nie (Matt. 25:1-13).

Dit lei tot geestelike onverskilligheid

Wanneer jy nie meer ‘n aktiewe toekomsverwagting het nie, raak jy geestelik onverskillig en verval ook maklik in sonde: “Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie…” (Matt. 24:48-50). Verwag die Here altyd, slaan ag op die tekens van sy naderende koms, en leef waardig voor Hom sodat jy met vrymoedigheid rekenskap van jouself kan gee (Rom. 14:10-12; 2 Kor. 5:10). Die profetiese woord moet altyd soos ‘n lig op ons pad skyn en ons voetstappe rig (1 Pet. 1:19).

Dit ondermyn geloof in die profesieë

Een van die talle gevolge van die historiese siening is dat die herstel van Israel, insluitende die herowering van Jerusalem, nie as tekens van die eindtyd aanvaar word nie. Jesus se uitspraak dat Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is (Luk. 21:24), word nie as ‘n uitdruklike teken van die einde van die kerkbedeling aanvaar nie. Omdat daar volgens dié mense nie ‘n letterlike groot verdrukking van sewe jaar voor die wederkoms van Christus sal wees nie, word daar geen noodsaaklikheid vir ‘n wegraping gesien sodat Christene hierdie oordele kan ontvlug nie. Die wegraping word dus as gevolg van subjektiewe redenasies verwerp, en nie op grond van 'n eerlike eksegese van Bybeltekste nie.

Dit lei tot wanhoop

Die wegraping is ‘n positiewe en stabiliserende belofte in ‘n andersins donker toneel van eindtydse profesieë oor die oordele van God en die skrikbewind van die Antichris in die groot verdrukking. Mense wat die hoop van die wegraping verwerp omdat daar na bewering nie ‘n groot verdrukking kom nie, ontneem hulself van ‘n geestelike anker in die lewe. Wanneer die donker tye oor hulle toesak, sal hulle in wanhoop verval: Op die aarde sal daar “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid wees… en mense se harte sal beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Luk. 21:25-26).

Dit ondermyn die gesag van die Skrif

Wanneer duidelik gedefinieerde Bybelse profesieë oor die eindtyd histories vertolk word, word mense verplig om die betrokke profesieë tot ‘n groot mate simbolies te verklaar. Die rede hiervoor is dat verskeie besonderhede van die betrokke profesieë nie in die historiese konteks waarin dit geforseer word, inpas nie. In plaas daarvan dat sulke mense hulle eie vertolkings bevraagteken, neem hulle dan hulle toevlug tot vergeesteliking en sê dat ons nie die profesieë letterlik moet opneem nie. Sodoende word Openbaring en ander profetiese gedeeltes simbolies verklaar en van hulle letterlike betekenis beroof. Die gevolg is dat skrifgesag in die algemeen afgetakel word.

Dit bevorder koninkryksteologie

Persone wat geneig is om die bedeling van die Antichris se regering van 7 jaar met die kerkbedeling te integreer, vertoon geen dispensasionele onderskeidingsvermoë nie. Hulle trap dikwels ook in die strik om die komende koninkryksbedeling van die duisendjarige vrederyk met die huidige kerkbedeling te versoen. Dit lei tot pogings om nóú, voor die wederkoms, koninkrykstoestande op aarde te skep. Hulle wil nie meer vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld wees nie, maar absolute heerskappy voer en as konings regeer. Hulle eis ook die mag op om die duiwel te bind en hom selfs uit stede en hele lande te verdryf. Hulle wil ryk en voorspoedig wees, en na willekeur tekens en wonders doen terwyl hulle oor hul erfdeel op aarde regeer.

Evangeliese, chiliastiese Christene verwerp die historiese verklaring van profesieë oor die Antichris en die groot verdrukking omdat dit in stryd met die duidelike, eskatologiese aard van die betrokke profesieë is. Watter reg het ons om profesieë oor ‘n eindtydse wêreldleier, wat as ‘n lewende persoon deur Christus by sy wederkoms verdelg sal word, te vergeestelik of iewers na die verlede terug te skuif sodat dit ons nie meer aanspreek nie? Wanneer profesieë in die Bybel ‘n logiese en voor-die-hand-liggende betekenis het – soos bv. dat Israel in hulle land herstel sal word en dat daar vir sewe jaar lank ‘n Antichris oor die hele wêreld sal regeer – het ons géén reg om dit te vergeestelik en sodoende effektief te ontken nie.

 

5. Die Nuwe Wêreldorde as ‘n Sataniese Komplot

Satan se komplot teen die mens en sy godgegewe vryhede het reeds in die paradys begin toe hy deur misleidng ‘n alternatiewe koninkryk aan hom voorgehou het wat op leuens gebaseer is.

Die Here het die mens as ‘n biologiese, intellektuele en geestelike wese met ‘n vrye wil gemaak. As Skepper het Hy riglyne vir die mens se persoonlike, gesins- én volkslewe neergelê. God se orde vir volke van die begin af was volle selfbeskikkingsreg en identiteitshandhawing binne ‘n staatkundige, kulturele en godsdienstige raamwerk waarin sy oppergesag erken, sy wette en insettinge eerbiedig, en die morele en etiese beginsels van sy koninkryk stiptelik uitgevoer word – met ander woorde ‘n teokratiese bedeling waarin die verheerliking van die Here en die nakoming van die beginsels van sy ryk die hoogste ideale is.

Met die oog op die uitvoering van hierdie opdragte het die Here aan gesins- en staatshoofde gesag verleen. As deel van hulle gesagsbeoefening en verantwoordelikheid het God die natuurlike skepping op aarde ook aan die mens onderwerp deur hom te beveel om daaroor te heers en dit tot sy voordeel te benut. Menslike gesagsdraers binne familie- en volksverband is hierdeur in ‘n posisie van aanspreeklikheid teenoor God geplaas, wat steeds die opperheerser van sy skepping is. Met sy vrye wil het die mens van die begin af egter die keuse gehad om óf aan die Here gehoorsaam te wees en Hom as God te dien, óf om sy reëling van sake te verwerp en sodoende teen Hom te rebelleer. Hiervoor sou die mens ‘n duur prys betaal omdat hy deur sy ongehoorsaamheid en dwase optrede die guns en seën van God sou verbeur en daardeur homself eindeloos sou benadeel.

Mense wat nie hulle Skepper eer en dien nie deurdat hulle Hom minag en sy wettte verwerp, het geen bestaansreg op aarde nie en stel hulleself aan die oordele van God bloot. Hy kan hulle onmiddellik oordeel en hulle rebellie beëindig, soos in die dae van Noag en Lot en soos wat Hy ook in die komende groot verdrukking sal doen, maar in elk geval sal al die rebelle en sondaars by die eindoordeel hulle ewige straf in ‘n plek van verdoeming weg van God se aangesig af ontvang.

Die tragiese geskiedenis van die mensdom deur die eeue heen was een van ongehoorsaamheid teenoor die Here. Dit was nie God se wil dat die mens in sonde en ongeregtigheid moes val nie, daarom het Hy dit beslis nie voorbeskik nie. Die mens is deur Satan mislei en het op grond van sy vrye wil én teen sy beterwete na die duiwel geluister en sodoende geestelik gesterf en ‘n verduisterde, sondebelaaide gemoed gekry. Adam se geestelike doodsheid en sondige natuur het as ‘n oorerflike eienskap na al sy afstammelinge op aarde deurgedring en sodoende aan almal van hulle ‘n ingesteldheid weg van die Here en sy geregtigheid af gegee. Dit is waarom Satan soveel sukses behaal om mense individueel, in gesinsverband, in volksverband én ook op ‘n wêreldvlak tot verdere dade van rebellie en ongehoorsaamheid teenoor God te verlei.

Uit hierdie geestelik en moreel verdorwe toestand word mense geroep om uit die duisternis tot God se wonderbare lig te kom. Deur bekering en wedergeboorte verkry ons die goddelike natuur van die tweede Adam, Jesus Christus, en begin dan dadelik om God se koninkryk in ons eie lewens, ons gesinslewe én ons volkslewe te vestig en uit te brei.

In die Ou Testament lees ons van baie individue en gesinne asook van een volk, Israel, wat deel van God se koninkryk was en geroepe was om te wandel soos kinders van die lig en in die stryd teen Satan se koninkryk te oorwin. Hoe groter die groep, hoe meer dikwels het hulle van die Here se weë afvallig geraak en weer in sonde en ongeregtigheid verstrik geraak. Wat die volk Israel betref, het die Here die voorwaardes vir hulle geestelike herstel uit ‘n vervalle toestand só beskryf: “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kron. 7:14).

Wanneer God se volk, Israel, hulleself in nasionale verband voor die Here verootmoedig het, het dit by die koning begin wat op sy beurt die priesters én die hele volk tot hertoewyding aan die Here opgeroep het. Voorbeelde van nasionale toewyding was in die tyd van Dawid, Asa, Jósafat en Hiskia. Hierdie herlewings het meesal net een geslag lank geduur, en het die volgende geslag weer in afgodery en sonde verval. In die tyd van Elia was die verval in Israel só erg dat daar in ‘n volk van ‘n paar miljoen mense net 7000 was wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie (1 Kon. 19:18).

Wat gesinne betref, geld dieselfde situasie. Elkeen moet sy saak met die Here regmaak omdat lidmaatskap van die koninkryk van die hemel nie oorerflik is nie. Dit is ‘n algemene verskynsel dat daar in dieselfde gesin geredde én ongeredde mense is. In die eerste gesin, dié van Adam en Eva, het Kain die eerste moordenaar en Abel die eerste martelaar vir sy geloof geword. Verskeie geloofshelde deur die eeue heen het gelowige én ongelowige kinders gehad. Dink maar aan die voorbeeld van die regverdige koning Dawid en sy goddelose seun, Absalom.

In die lig van bogenoemde feite is Satan se metode van misleiding duidelk: hy wil soveel as moontlik individue in sy mag kry en daardeur seker maak dat die meeste gesinne in ‘n gemeenskap ook die slagoffers van geestelike misleiding is. Hiervandaan beweeg hy na die nasionale vlak van die volksregering in ‘n poging om die regeringshoof en sy amptenare ook van God afvallig te maak. Wanneer hy daarin slaag, is dit vanselfsprekend dat antichristelike grondwette, beleidsrigtings en onderwysstelsels op die hele volk afgedwing sal word. Hoe verder die verval na goddeloosheid en valse godsdienste vorder, des te meer verstewig Satan sy greep op die hele volk of nasie.

Hierna is daar nog die internasionale terrein waarin die duiwel baie belangstel. Dit is duidelik sy einddoel om absolute beheer oor die hele wêreld en al sy inwoners te verkry deur ‘n antichristelike diktator as hoof van ‘n wêreldregering aangestel te kry. Wanneer só ‘n regering gevestig word, lei dit altyd tot ‘n nuwe wêreldorde waarin ‘n bepaalde ideologie en valse godsdiens op alle volke afgedwing word. Nimrod se Babiloniese ryk en die bou van die toring van Babel was die eerste goddelose wêreldryk in die geskiedenis van die mensdom. Omdat die volke geen soewereinitiet onder die bewind van ‘n wêreldregering het nie, kan hulle na hartelus deur ‘n magtige diktator gemanipuleer, oorheers en onderdruk word.

Goddelose diktators misken nie alleen die volke se reg tot selfbeskikking nie, maar ontken ook God se oppergesag omdat hulle in sy plek aanbid wil word. Sedert 1990 het verskeie lande onder die beïnvloeding van Amerika en die Verenigde Nasies tot die stap oorgegaan om God se gesag openlik te misken en te verwerp deur humanistiese grondwette te aanvaar waarin geen melding van die Drie-enige God se oppergesag en posisie gemaak word nie. Suid-Afrika is ook een van dié lande wat die Christelik-nasionale beginsel en die soewereiniteit van God verwerp het deur ‘n grondwet te aanvaar waarin die staat die hoogste gesag het en alle gelowe gelykgestel word.

Indien die vroeëre kommunistiese magsuitbreiding in die wêreld in ag geneem word, het ten minste 44 lande in die 20ste eeu hulleself tot sekulêre state verklaar. In alle gevalle het dit tot beperkende wetgewing en die vervolging van hul onderdane gelei. Meer as 160 miljoen mense het in die 20ste eeu aan die hand van hul eie regerings in sekulêre state gesterf! Dit is onbegryplik dat daar ten spyte van al dié getuienis aan die einde van die 20ste eeu tot sekulêre grondwette teruggekeer word.

Dit is in ‘n tyd soos dié dat Psalm 2 finaal vervul sal word:

“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde (Christus) en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:1-12).

Volgens vers 2 word daar deur die nasies ‘n openlike veldtog teen God én die Here Jesus gevoer. Hulle misken God se oppergesag en bring ander gode voor sy aangesig. Hulle verwerp ook ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing, die versoening aan die kruis, Christelike onderwys, die Christelike etiek, ens. Hulle ag hulleself eenvoudig nie meer hieraan gebonde nie, en beskou Christelike beginsels as ‘n belemmering in hulle humanistiese vryheidstrewe: “Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” Dit, meen hulle, is ware vryheid, gelykheid en broederskap!

God sê egter uitdruklik dat Hy sy Seun, Jesus Christus, as Koning oor hierdie aarde gesalf het en nasies as sy erfdeel gegee het (v. 7-8). As hulle teen Hom in opstand kom, sal Hy hulle verpletter en stukkend slaan (v. 9). Dieselfde sal met hierdie goddelose regerings en hulle onderdane gebeur as wat met al die vorige wêreldregerings gebeur het wat God misken en verwerp het. Die oordele wag reeds op hulle, want vreeslik is dit om te val in die hande van ‘n lewende God (Heb. 10:31). Hulle sal voortgaan met hulle verwerping van die ware Christus, en dan noodwendig die Antichris (die dier van Openbaring) as wêreldheerser kry. Saam met hom, en as deel van sy militêre diktatuur, sal hulle teen die ware Christus veg wanneer Hy kom om sy koninkryk op die berg Sion te vestig. Saam met die Antichris sal sy misleide volgelinge ook verdelg word wanneer die ware Koning kom:

“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit (Jesus Christus), en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21).

Wil die regerings van die nasies, insluitende die Suid-Afrikaanse regering wat ook die weg volg van die verwerping van die Drie-enige God en die ontering van sy Naam deur Hom met die afgode gelyk te stel, hulle nie liewer vriendelik dog ernstig laat waarsku nie? “Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde” (Ps. 2:10). Die regters wat help om die goddelose grondwette en ander wette af te dwing waardeur hele nasies geestelik en moreel afvallig gemaak word, word saam met die politieke leiers vir hulle verraad teen God aanspreeklik gehou.

Vir hulle almal sê Psalm 2: “Dien die Here met vrees en juig met bewing.” Daar moet eerbied en ontsag vir die Here wees deur die konings en regters. Die leiers van ‘n land moet dus aan hulle volgelinge die regte voorbeeld stel. As hulle dit nie doen nie, wag daar vir hulle groot probleme: “Kus die Seun (Jesus Christus), dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam.”

‘n Persoon, ‘n groep of ‘n land wat sy toevlug tot die Here neem, volle erkenning aan Hom gee en waarlik in Hom glo, word gelukkig en geseënd genoem: “Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” Daar was in Nuwe Testamentiese tye verskeie volke met Christelike grondwette, waardeur die Naam van die Here oor die hele volk en sy instellings uitgeroep is. Die VSA het van sy stigting af vir 200 jaar lank, tot in 1990, ‘n Christelike grondwet gehad en tot ‘n magtige nasie ontwikkel. Sedert 1990 het hulle egter ook amptelik die sekulêre en multigodsdienstige weg begin bewandel en daardeur die afdraendepad na uiteindelike selfvernietiging gekies.

Die nuwe Suid-Afrika het dieselfde, tragiese keuse gemaak deur ook van staatsweë af die rug op die Drie-enige God te draai. Op ‘n soortgelyke wyse word die weg oral op aarde onder alle nasies na die antichristelike nuwe wêreldorde gebaan. Ideologiese klimaatskepping soos die volgende is nie net in Suid-Afrika aan die gang nie, maar onder alle nasies:

·      Internasionalisme kan nie seëvier as volksnasionalisme nog sterk funksioneer nie, daarom moet volksgebondenheid as van minder belang beskou word en deur die breër visie van wêreldburgerskap vervang word.

·      Eenheid kan nie seëvier as daar nog verdeeldheid, grense en groepsgebondenheid bestaan nie. Alle grense moet afgebreek en brûe van eenheid gebou word. Indien groepe wél erken en in stand gehou word, moet hulle nooit eksklusief wees nie, maar oop, verdraagsaam en akkommoderend ten opsigte van ander groepe.

·      ‘n Alliansie van alle godsdienste kan nie gevestig word terwyl daar sterk vooroordele teen hierdie idee is nie. Alle kerke en godsdienste moet gelykgestel word, en ekumenies by strukture betrek word waar hulle as gelyke vennote kan saamwerk en nader aan mekaar beweeg.

·      Die ideaal van godsdienseenheid sal slegs bereik word indien die volgelinge van alle gelowe glo dat hulle dieselfde God aanbid (universalisme). Dan sal hulle bereid wees om ook rondom dieselfde wêreldmessias verenig te word.

·      Onderwys moet oral multigodsdienstig wees, sodat die opkomende geslag volgens die inklusiewe en multigodsdienstige sienings van die nuwe wêreldorde opgevoed kan word. Christelike onderwys wat nie ekumenies is nie, moet deur alle regerings uitgefaseer word omdat dit eksklusief is.

·      Politieke ideologieë en grondwette moet geensins erkenning aan die Drie-enige God van die Christendom gee nie, omdat dit ander gelowe degradeer, uitsluit en dus nie vir die kosmiese christus  van alle gelowe aanvaarbaar sal wees nie. Grondwette moet sekulêr of multigodsdienstig wees.

Al hierdie propagandistiese stellings vorm ‘n wesenlike deel van die voorbereidings vir die Antichris se wêreldstaat. Ons wat die lig het, moet soos nooit tevore nie ons lig laat skyn. Selfs al raak die hele land geestelik afvallig deur die Here Jesus se Naam te verloën en sy Woord te verwerp, dan mag ons nooit deel van die vervalproses word nie. Ons moet aanhou om kragtig te getuig van die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Hierdie boodskap is die enigste oplossing vir ‘n verloregaande wêreld. Indien die wêreld, ook ons eie land, hierdie boodskap verwerp, dan moet ons nog steeds soos Josua sê toe hy die afvalliges só aangespreek het: “Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien… die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het… maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos. 24:15).

Wanneer ander godsdienste en antichristelike idees in ‘n land en sy onderwysstelsel bevorder word, moet ons by ons oortuigings bly en gepaste stappe neem om te verseker dat ons vir ons kinders ‘n Christelike opvoedingsomgewing skep om hulle teen misleidng te beskerm. Ons moet egter besef dat wanneer ons dit doen, ons teen ‘n gedugte, postmodernistiese stroom van wêrelddenke standpunt inneem en dus baie sterk van ons eie Christelike beginsels oortuig moet wees. Die Here Jesus het ons teen teëstand van hierdie aard gewaarsku toe Hy gesê het: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 16:33). Hy is die oorwinnaar wat spoedig sal terugkom om die antichristelike nuwe wêreldorde te vernietig en ‘n Christelike nuwe wêreldorde in die plek daarvan te stel.

 

6. Israel in die Raadsplan van God

Die volgende aspekte van die volk Israel is profeties baie belangrik:

Roeping

‘n Groot deel van die Bybel handel oor die volk Israel. In ‘n baie besondere sin is dit die volk van God. Hy het hulle geroep en vir sy diens afgesonder, hulle onder die nasies verstrooi weens hulle ongehoorsaamheid; en dit is dieselfde, onveranderlike verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob wat hierdie volk in die eindtyd weer in hulle land herstel.

Die roeping van Israel het by Abraham begin, wat die stamvader van hierdie volk is. Die Here het aan hom gesê:

“Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid” (Gen. 13:14-15).

Hierdie belofte van die land is aan Isak en Jakob herbevestig (Gen. 26:3; 28:13).

Die nasate van die aartsvaders het eers 400 jaar lank in Egipte as vreemdelinge vertoef voordat hulle die land van die belofte sou beërf (Gen. 15:13-14). Hulle het die slawe van die Egiptenaars geword en ernstig tot die Here geroep om hulle bande te breek en hulle te verlos.

Nadat die offerlam geslag en die eerste Pasga in Egipte gevier is, het die Here sy volk met ‘n magtige arm uit Egipteland gelei. Israel moes hierdeur die les leer dat hulle nie uit eie krag die beloftes van God kon beërf nie. In hierdie opsig was die offerlam ook ‘n heenwysing na die Messias wat die ware Lam van God is, wat deur sy offer die volk van hulle geestelike slawerny sou bevry om die koninkryk van God binne te gaan.

Israel moes leer dat hulle eers volk van God moes word wat volgens sy wette en weë wandel, voordat hulle in die land wat God aan hulle beloof het, kon woon. Hulle moes ‘n geroepe, heilige en diensbare volk wees waardeur die Here Homself aan die wêreld kon openbaar. Hulle roeping na die land Kanaän het dus implisiet ook ‘n geestelike roeping en verantwoordelikheid ingesluit.

Verstrooiing

Die Here het ‘n geestelike standaard aan Israel gestel vir die voorreg om volk van God genoem te word. Indien hulle in gebreke sou bly om hieraan te voldoen, sou hulle die onguns en toorn van die Here op die hals haal. Verlengde tye van nasionale ongehoorsaamheid het daartoe gelei dat die Here sy volk dikwels aan hulle vyande oorgegee het. As gevolg hiervan moes hulle tot besinning kom en besef dat hulle van die Here afgedwaal het. Ná verootmoediging het Hy hulle weer in hulle land herstel (Lev. 26; Deut. 28).

Die waarskuwings aan Israel het baie duidelik ook die moontlikheid van ‘n lang internasionale verstrooiing ingesluit indien hulle sondes en rebellie teen God sou voortduur:

“En die Here sal jou verstrooi onder die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde” (Deut. 28:64). “En Ek sal julle onder al die volke verstrooi en ‘n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ‘n wildernis en julle stede puinhope word” (Lev. 26:33).

Die Babiloniese ballingskap van Israel, wat net na een gebied was, was duidelik nie die internasionale verstrooiing (diaspora) na alle nasies nie. Dit het eers in die eerste eeu n.C. plaasgevind, en is deur Jesus self aangekondig nadat Hy as die beloofde Messias deur Israel verwerp is. In die profetiese rede in Mattheus 23 stel Hy dit aan die goddelose volksleiers dat hulle besig was om die maat van hulle vaders se sonde vol te maak, en dat Jerusalem as gevolg daarvan verwoes sou word. In Lukas 21 word aangekondig dat die verstrooiing van Israel baie lank sou duur, en met die tye van die nasies sou saamval:

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is… Dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word… Want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20-24).

Die inval in Israel en die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. deur die Romeinse magte, was die begin van die lang internasionale verstrooiing van Israel wat tot diep in die 20ste eeu sou voortduur. In hierdie tyd was daar in een of ander stadium Joodse ballinge in elke land ter wêreld.

Herstel

Op geen tydstip van Israel se bestaan was daar ooit enige twyfel aan die geldigheid of voortbestaan van die onvoorwaardelike beloftes wat God aan die stamvaders van die volk gemaak het nie. Die Here self was, en is steeds, die waarborg van die Abrahamitiese, Kanaänitiese en Davidiese verbonde wat die land as ‘n ewige toesegging aan Israel verseker, asook die bestendigheid van die troon van Dawid. Israel se ballingskap uit die land as gevolg van ongehoorsaamheid kan dus nie die verbonde vernietig of opskort nie. Al is hulle ook ontrou, God bly ‘n getroue verbondsgod wat die nageslag sekerlik na die land van hulle vaders sal terugbring. Hierdie versekering is lank voor die Babiloniese ballingskap en die internasionale verstrooiing reeds gegee:

“Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die HERE hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die Here” (Lev. 26:44-45).

Die herstel van Israel uit die internasionale ballingskap is ‘n fisiese herstel na die land van hulle vaders, maar die einddoel daarmee is die geestelike herstel van die volk uit ‘n vervalle toestand sodat hulle God van harte sal dien:

“Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here HERE: …Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees” (Eseg. 36:22-28).

Daar moet dus ‘n geestelike reinigingsproses plaasvind nadat Israel in hul land versamel is. Dit sal, uiterlik gesproke, ‘n baie pynlike proses wees omdat dit met groot benoudheid en verdrukking gepaard sal gaan. Die Here sê Hy sal hulle in ‘n smeltoond gooi en smelt (Eseg. 22:19-20). Jeremia verwys ook na dié tydperk: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7).

Hierdie benoudheid is die komende groot verdrukking. In die ellende wat oor Israel sal kom, sal hulle na God roep om hulp: Die Here sê ook: “In hulle nood sal hulle My soek” (Hos. 5:15).

Israel se herstel is dus progressief: eers word hulle fisies en staatkundig in hulle land herstel, maar nog in dieselfde geestelik vervalle toestand as wat hulle was toe hulle uit die land verstrooi is. Ná hulle herstel laat die Here groot benoudheid oor hulle toe, waaruit ‘n oorblyfsel van die volk gered sal word (Rom. 9:27).

Die status van die stad Jerusalem is ‘n baie belangrike teken van die einde van die tye van die nasies, én van die herstel van Israel. In Lukas 21:24 sê die Here Jesus dat Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is. Die eindtydse herstel van die stad Jerusalem weerspieël dus die herstel van Israel as volk, terwyl dit ook die einde van die kerkbedeling uitspel. Dit is egter ‘n progressiewe teken omdat Jerusalem nie oornag volkome herstel is nie. Die verskillende fases van die herstelproses kan soos volg onderskei word:

·      In 1948 met Israel se onafhanklikwording as ‘n Joodse staat, het die volk net beheer oor die nuwe, westelike deel van Jerusalem verkry. Die ou stad en die Tempelberg was toe nog onder Jordaniese beheer.

·      In 1967 met die Sesdaagse Oorlog het Israel beheer oor die hele Jerusalem verkry, asook oor die Wesbank, die Golan Hoogland en ander grondgebiede. Jerusalem was toe fisies herstel. Hierna het die Joodse bevolking van die stad vinnig toegeneem.

·      In 1980 is Jerusalem tot die hoofstad van Israel verklaar, en is die eerste minister se kantoor van Tel Aviv af daarheen verskuif. Daarna het die res van die kabinet gevolg. Jerusalem was toe staatkundig herstel deurdat die fisiese én staatkundige vertrapping daarvan verby was.

·      Hierna het nog net die geestelike vertrapping van Jerusalem voortgeduur. Drie Moslem moskees staan op die Tempelberg, en ‘n Moslemkomitee het ook steeds die beheer oor die tempelterrein. Volgens die profesieë gaan die ortodokse geloof van Israel volskaals herleef en die tempel herbou word. Dit sal ook met die volgehoue verwerping van Jesus as Messias gepaard gaan. Die herboude tempel sal egter deur die Antichris ontheilig word, en wanneer Israel hulle verbond met hom verbreek, sal hulle uit die stad verdryf word. Eers wanneer die ware Messias kom, sal Jerusalem geestelik herstel word en die hele oorblyfsel van Israel ook geestelik ontwaak.

Jodehaat

Ten spyte van die geestelike doodsheid van die Joodse volk is daar geen regverdiging hoegenaamd om ‘n haatveldtog teen hulle te voer nie. Trouens, dit is naas die verwerping van God een van die heel gevaarlikste dinge op aarde om te doen! Om in stryd met God se wil en opdragte te handel, is om jouself met baie smarte te deurboor. Kyk net wat met Israel gebeur het omdat hulle God verwerp het. Dieselfde God waarsku egter die vyande en kritici van Israel wanneer Hy vir Abraham sê:

“Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3).

Nasies en individue wat Israel vervolg, bring ‘n vloek oor hulleself. Hulle grawe ‘n put waarin hulle self sal val. Groot wêreldryke is al vernietig omdat hulle Israel probeer vernietig het. Hieronder is die eens magtige Babiloniese, Assiriese en Romeinse ryke wat almal tot ‘n val gekom het.

‘n Term wat lank as sinoniem vir Jodehaat gebruik is, is anti-Semitisme. Die Arabiere is egter ook Semiete, en hulle tel onder die mees fanatieke Jodehaters in die wêreld vandag. Aangevuur deur die Moslemgeloof, het baie van dié lande al probeer om ‘n uitwissingsoorlog teen Israel te voer. Die Bybel verwys ook na hulle, en die feit dat hulle ‘n selfverklaarde “heilige” oorlog teen die God van Israel voer:

“o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God! Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig ‘n plan… Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ‘n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Amalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit… (hulle) sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem!” (Ps. 83:2-9, 13).

Uit hierdie antieke vyande van Juda het die moderne Arabiese volke afgestam, insluitende die Palestyne. Hulle wil Israel vernietig en die woninge van God (Israel en die Tempelberg) vir hulleself in besit neem. Omdat hulle in moderne tye, sedert 1948, nog nie daarin kon slaag om Israel te vernietig nie, probeer hulle nou om druk op Israel uit te oefen om sy land met hulle te deel. Ook die stad Jerusalem moet verdeel word.

Hierdie druk sal tot met die slag van Armagéddon, aan die einde van die groot verdrukking, volgehou word. Dan sal die Here met Israel se vyande wat die volk verstrooi en hul land verdeel het, afreken. Dit is duidelik dat in daardie stadium die hele wêreld teen Israel sal draai en die kant van sy vyande sal kies. Die komende multi-nasionale mag wat in Israel ontplooi sal word, sal deur die Here verdelg word:

“Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).

Die swaard van die Here se toorn hang oor die vyande van Israel, en hulle verhaas deur hul dwase optrede hulle eie ondergang. Die nasies van die wêreld wat booswigte se kant kies en hulle ook nog help om die land van Israel te verdeel of van sy regmatige eienaars weg te neem, grawe hulle eie grafte. Sagaria 14 beskryf in duidelike taal die oordele van God wat oor die nasies sal kom wat dwaas genoeg sal wees om teen Jerusalem te veg. Jodehaat is die ideologie van die Antichris. Vermy dit geheel en al!

Seën hulle

Om die seën van die Here te verseker moet ons Israel seën. Moenie haastig wees om Israel te verdoem omdat hulle Jesus verwerp en gekruisig het nie. Dit was wél ‘n daad van ongeloof aan hulle kant, maar dit was deel van God se raadsplan vir die redding van sondaars in die hele wêreld. Sonder die plaasvervangende dood van Jesus sou jy en ek nooit Christene kon word nie, daarom hou Israel se struikeling en wandade tóg vir ons ‘n groot seën in:

“Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:11-12).

Omdat Israel vir Jesus verwerp en gekruisig het, het die saligheid tot ons, die nie-Joodse volke, gekom. Israel is in sy gevalle toestand dus ‘n bron van seën vir ons! Die Here sê dat hulle in hul geestelik herstelde toestand, in die komende vrederyk, nog ‘n groter seën vir die wêreld sal wees.

Uit enige oogpunt beskou, is ons nét erkentelikheid, seën, voorbidding en onderskraging aan Israel verskuldig. Ons moet hulle jaloers maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus Christus, dien. Ons moet bid vir die vrede van Jerusalem as ons ook in ons eie land in vrede wil leef (Ps. 122:6).

Die rede waarom alle gelowiges ernstig en toegewyd vir Jerusalem moet intree, is omdat dit die Stad van die groot Koning is. Dit is die stad waar die Here Jesus Homself as Koning geopenbaar het, aan die kruis gesterf het om versoening vir ons sondes te doen, op die derde dag uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het. Tien dae ná sy hemelvaart is die Heilige Gees oor 120 getroue, biddende dissipels in Jerusalem uitgestort. Dit was die geboortedag van die Christelike kerk. Van Jerusalem af is die boodskap van verlossing na die eindes van die aarde uitgedra.

Dit is ook na Jerusalem, op die Olyfberg, dat die Messias aan die einde van die groot verdrukking sal terugkeer om die oorblyfsel van Israel te red, die nasies te oordeel en sy koninkryk op aarde te vestig. In antwoord op die gebede van die heiliges, en in ooreenstemming met sy heilige wil, sal Hy Jerusalem tot die wêreldhoofstad omskep – die stad van die groot Koning! Dan sal die Here Jesus, die seun van Dawid, die wêreld in die vrederyk van die herstelde troon van Dawid af regeer (Luk. 1:32). Bid u hiervoor en beywer u uself vir die aanbreek van hierdie heerlike dag?

“O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!” (Jes. 62: 6-7; kyk ook Jes. 52:1-2).

Die 70ste jaarweek van Daniël

Die heilsgeskiedenis van Israel van die einde van die Babiloniese ballingskap af tot met die aanbreek van die Messiasryk, word in Daniël 9:24-27 binne die raamwerk van 70 jaarweke geplaas. Dit is 490 profetiese jare van 360 dae elk. Dit word in vers 24 duidelik gestel dat aan die einde van dié tyd, die maat van Israel se sondes vol sal wees. Dan sal die goddeloosheid van die volk beëindig word en ewige geregtigheid vir hulle aanbreek. Ná die 70 jaarweke sal die volk dus volkome, en in sy geheel, met God versoen wees.

Vandat die woord uitgegaan het om Jerusalem te herbou, tot met die uitroeiing van ‘n Gesalfde (die kruisiging van Christus) sou 69 jaarweke verloop (vers 25-26). Daar het inderdaad 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta in 445 v.C. aan Nehemia toestemming gegee het om Jerusalem te herbou (Neh. 2), tot met die kruisiging van Christus in 32 n.C. Al wat hierna in die heilsgeskiedenis van Israel as volk oorbly totdat die Messiasryk aanbreek, is sewe jaar – die veelbesproke sewentigste jaarweek van Daniël.

Met die geboorte van Jesus hét die Messias gekom, en kon die Messiasryk in beginsel vir Israel aangebreek het indien hulle Hom as hulle Koning aanvaar het. Dit het egter nie gebeur nie, en die Gesalfde is ‘uitgeroei’ sonder iets vir Hom (Dan. 9:26). Hy het na sy eie mense gekom en hulle het Hom nie aangeneem nie. Deur hierdie daad van verwerping het God se horlosie vir Israel gaan staan wat hulle heilsgeskiedenis as volk betref. Die gevolg was dat daar ‘n baie lang tydsgaping tussen die 69ste en 70ste jaarweke ingetree het, waarin die koninkryk van God op aarde hoofsaaklik onder die nie-Joodse volke gevestig is.

Ná sy opstanding het Jesus aan sy dissipels opdrag gegee om die evangelie aan die ganse mensdom op aarde te verkondig (Mark. 16:15). Dit is die tye van die nasies [nie die tyd van Israel nie], waarin die nie-Joodse nasies ‘n kans sou kry om gered te word. Individuele Jode sou ook in hierdie tyd gered word, maar Israel as volk sou in ‘n verworpe toestand bly voortbestaan. Dit sal so bly tot aan die einde van die kerkbedeling wanneer Jerusalem en Israel herstel sal word en die 70ste jaarweek ‘n aanvang sal neem: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).

Ons leef nou in die tyd van die progressiewe herstel van Israel en Jerusalem. Die 70ste jaarweek van die volk se heilsgeskiedenis kan dus enige tyd begin. Volgens Daniël 9:26-27 sal dit ‘n aanvang neem wanneer die vors van ‘n volk wat sal kom (die Antichris, of valse Messias) ‘n verbond met Israel én baie ander lande sluit. Sy toetrede tot die wêreldtoneel sal waarskynlik met ‘n ernstige oorlogsituasie verband hou (die Russies-Arabiese inval in Israel – Eseg. 38 en 39), en hy sal die krediet vir die oorwinning opeis. Hy sal dus op ‘n kritieke oomblik as ‘n vredevors tot Israel se redding kom, en ook internasionaal geloof word omdat hy ‘n dreigende derde wêreldoorlog afgeweer en ‘n totale ekonomiese ineenstorting voorkom het.

Hierdie hoogs dramatiese gebeure sal ‘n verreikende invloed op die Joodse volk, hulle regering en godsdiensleiers hê. Om die opgewondenheid tot nog hoër hoogtes te voer, sal dié verlosser aanspraak op die troon van Dawid maak en waarskynlik ‘n vervalste geslagsregister hê om sy aanspraak as Messias te bewys. Israel sal ‘n verbond met hom sluit waarin hulle hom as die beloofde Messias aanvaar (Joh. 5:43). Hy sal ook aan hulle die reg gee om die tempel te herbou en die offerdiens weer in te stel.

Terwyl die meerderheid Jode die valse Messias feestelik inhuldig, sal daar ‘n geestelike herlewing plaasvind waarin 144 000 Jode hulle van hul regering se verbond met Satan se ‘Engel van die Lig’ sal distansieer en vir Jesus Christus (Jeshua Ha Mashiach) as die ware Messias sal aanvaar. Hulle sal openlik standpunt teen die valse messias inneem, en dit sal tot negatiewe propaganda en ook hewige vervolging teen hulle aanleiding gee.

Die valse vrede wat die Antichris as valse messias sal bewerk, sal net 3½ jaar lank hou. In die middel van die jaarweek van 7 jaar sal hy in die herboude tempel se Allerheiligdom ingaan en homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4). ‘n Beeld van hom sal in die tempel geplaas word, en almal sal gedwing word om hom te aanbid (Op. 13:14-15). Dan sal hy Israel se nasionale godsdiens en offerdiens verbied:

“…gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees” (Dan. 9:27).

Israel sal as ‘n volk hulle verbond met die Antichris verbreek en hom as Messias verwerp. Hy sal in woede op hulle toeslaan en ‘n Joodse volksmoord gelas. Dan sal die Jode vir hulle lewe moet vlug en geen oomblik verloor in hulle poging om van die Antichris se magte weg te kom nie:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting (die Antichris en sy beeld), waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie… en bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22).

Daniël verwys na dieselfde tyd van verskrikking wat in al sy felheid oor Israel sal losbars. Paniek sal heers en baie mense sal nie weet wat om te doen nie. Sommige van die Jode sal die valse messias erken in die hoop om vrede, sekuriteit en ekonomiese voordele te verkry. Die ander sal hom egter verwerp en heftig vervolg word:

“En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel [‘n beeld van die valse Messias] opstel. En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree. En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank. En terwyl hulle struikel, sal hulle met ‘n klein hulp ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit [spioene van die valse Messias]. En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde – want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd” (Dan. 11:31-35).

Nadat die verbond tussen Israel en die valse Messias verbreek is, sal daar nog 42 maande (1 260 dae) verloop voordat die ware Messias sy verskyning op die Olyfberg sal maak. Wanneer die bestemde tyd nader kom, sal die Jode van hulle plek van ontvlugting af na Jerusalem terugkeer. Hulle sal vasbeslote wees om op die Groot Versoendag (die Jom Kippur) by die Olyfberg te wees. Dit sal met lewensgevaar gepaard gaan omdat die valse Messias steeds met sy Joodse volksmoord sal voortgaan. In daardie stadium sal ‘n groot multi-nasionale mag in Jerusalem en omstreke ontplooi wees. Hulle sal onder die bevel van die valse messias wees, met hulle militêre hoofkwartier tussen Jerusalem en die Middellandse See (Dan. 11:45).

Die slag van Armagéddon

Wanneer die valse messias op die punt sal staan om die oorblyfsel van Israel uit te wis, sal die dramatiese gebeurtenis van die Messias se koms plaasvind:

“Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge – want die dal van die berge sal loop tot by Asal – en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U! En in dié dag sal daar geen lig wees nie… en dit sal ‘n enige dag wees… maar teen die aand sal dit lig word… En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde… En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sag. 14:2-7, 9, 12-13).

Die oomblik wanneer die Messias sy verskyning op die planeet aarde maak, sal die Olyfberg in twee gesplit word en ‘n groot dal vorm waarin die vlugtelinge skuiling teen die vyand sal soek. Die duisternis van God se oordele sal oordag toesak soos wat dit byna 2000 jaar gelede gebeur het toe sy oordeel vir die sonde van die wêreld deur Jesus aan die kruis buite Jerusalem gedra is (Matt. 27:  45).

Op die hoogtepunt van sy oordele oor sondaars sal die genade van die Here nog steeds aangebied word aan dié wat hulle toevlug by Hom neem. Die oorlewende Jode wat deur die magte van die valse Messias omsingel is, sal sien hoedat die Olyfberg in twee verdeel wanneer die Messias kom. Hulle sal in die geopende rotsskeure in die berg vlug terwyl die duisternis toesak. Daar, letterlik aan die voete van die Here Jesus, sal hulle veilig wees.

In hierdie beslissende oomblikke sal daar groot verwarring onder die vyande van Israel heers terwyl hulle deur goddelike oordele getref en verdelg word. Hulle sal mekaar ook begin doodmaak. Die valse Messias en die valse profeet, as die twee leiers van die wêreldwye rebellie teen God en sy volk, sal gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi word (Op. 19:19-20).

Wanneer dit weer begin lig word, sal die oorblyfsel van Israel vol verwondering en aanbidding voor die Messias neerval. As hulle na Hom opkyk, sal hulle verbasing baie groot wees om wonde in sy hande te sien. Hulle eerste vraag aan Hom sal wees: “Watter wonde is daar tussen u hande?” Dan sal Hy aan hulle sê: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6).

Hoe verklaar Israel die feit dat die Messias, volgens die profeet Sagaria, wonde in sy hande sal hê wanneer Hy op die Olyfberg neerdaal? Waar het Hy die wonde opgedoen? Dit kan tog nie in die hemel wees nie! Hulle sal opsien na Hom vir wie hulleself, as Joodse volk, deurboor het toe Hy met sy eerste koms Homself as die Lam van God bereid verklaar het om aan ‘n kruis vasgespyker te word en vir die sondes van die wêreld te sterf:

“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10).

Die ontmoeting tussen Israel en hulle Messias sal uiters gevoelvol en hartlik wees. Die volk wat kort tevore nog deur totale uitwissing in die gesig gestaar is, sal aan die voete van hul Verlosser neerval in aanbidding. Hulle vreugde sal deur trane van berou afgewissel word terwyl elke lid van die oorblyfsel van Israel met Jeshua Ha Mashiach verenig word. Op een dag sal al die skuld van die land uitgewis en ‘n volk weergebore word (Sag. 3:9).

 

7. Profetiese Program in Israel se Feeste

Die jaarlikse siklus van die sewe groot godsdienstige feeste wat volgens Levítikus 23 deur Israel gevier word, werp duidelike lig op die raadsplan van die Here vir Israel én die nasies. Hierin kan ons die heilsweg volg wat by die kruis en die eerste reiniging van ons sonde begin, na die opstandingslewe en die vervulling met die Heilige Gees voortgaan, en daarna deur die lang pad van wêreldevangelisasie tot aan die einde van die kerkbedeling lei. Hierna volg die insameling van die oes, die verdrukking, die koms van die Messias as Koning en die vestiging van die Messiasryk op aarde.

Die Here bevestig in sy Woord dat hierdie feeste nie menslik in oorsprong is nie, maar deur Homself ingestel is om sy heilsweg vir redding en geestelike groei bekend te maak. Om redes van die toekomstige vervulling daarvan moet die feeste jaarliks in die regte volgorde gevier word. In Levitikus 23:4 sê Hy: “Dit is die feestye van die Here… wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd.” Daar is dus ‘n bepaalde chronologiese orde van gebeure wat nie versteur mag word nie.

Omdat hierdie feeste op ‘n Nuwe Testamentiese vervulling dui, is hulle in hulle oorspronklike vorm “’n skaduwee van toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol. 2:16-17). Hulle is dus almal Christusfeeste wat ín Hom konkrete gestalte verkry. Tydens Jesus se eerste koms is die pasga, die fees van die ongesuurde brode en die fees van die eerstelingsgerf vervul, en 10 dae ná sy hemelvaart, m.a.w. 50 dae ná sy opstanding uit die dood, die pinksterfees. In die gebeure rondom sy tweede koms sal die laaste drie feeste, wat saam as die oesfees bekend staan, vervul word.

Die feit dat al hierdie feeste ‘n Nuwe Testamentiese vervulling het, vereis dat ons hulle as Christelike feeste sal vier – nie as ortodokse Joodse feeste wat net ‘n skaduagtige betekenis het nie. Daar is ongelukkig Christene wat streng by die Ou Testamentiese gebruike en ortodokse Joodse tradisies hieroor bly, sonder om uitdruklik aan te toon hoedat die feeste nét in die Messias hulle ryk en finale betekenis kan verkry. Op hierdie wyse word die ortodokse Jode se geloof en godsdienstige praktyke bevestig, en dink hulle dat hulle God sonder die Messias, Jeshua Ha Mashiach, kan dien. Dit is ‘n ernstige mistasting, en geen Christen moet homself daaraan skuldig maak deur Jesus uit die feeste weg te laat net ter wille van aanvaarding deur die ortodokse Jode nie. Mense wat dít doen, is nie getuies van Jesus nie en dra nie daartoe by om die skille van die Jode se oë te laat afval nie. Ons moet hulle wys hoedat die Skrifte en feeste van die Messias getuig.

Die Chronologie van Israel se Feeste

Ou Testamentiese skaduwee

Nuwe Testamentiese vervulling

1. Pasga: slag van die paaslam

Kruisiging van God se Lam

2. Ongesuurde brode

Begrafnis van Christus

3. Die eerstelingsgerf

Opstanding van Christus

4.  O.T. Pinksterfees: instelling van die wet

N.T. Pinksterfees: uitstorting van die Gees

5. Basuingeklank: oesfees

Basuingeklank: wegraping

6. Groot Versoendag

Wederkoms: Israel gered

7. Loofhuttefees

Vrederyk van Christus

Die pasga

Die pasga word in Nisan, die eerste maand op Israel se godsdienstige kalender, gevier. Dit is die lentemaand in die Noordelike Halfrond, nl. Maart/ April. Israel het ook ‘n siviele kalender wat met die Rosh Hashanah op 1 Tisri in September of Oktober begin. In die godsdienstige kalender is Tisri die sewende maand. Israel se maande is op die maansiklusse gebaseer en begin altyd met die nuwemaan. Omdat 12 maan-maande net 354 dae lank is, het Israel dikwels skrikkeljare met 13 maande elk om weer in pas met die seisoensjare te kom. Dit verklaar die feit waarom hulle feestye jaarliks wisselende datums op die Gregoriaanse kalender het.

Die eerste van die jaarlikse feeste begin met die volmaan in Nisan [twee weke ná die nuwemaan is dit altyd volmaan]: “In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here” (Lev. 23:5).

Met die instelling van die pasga is die eerste formele riglyne gelê waarvolgens God se verlossingsplan vir die mens 1500 jaar later sy finale vervulling in die kruisdood van Christus sou verkry. Aan Israel het Moses gesê: “Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie… En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel… Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref… Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees… as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees nie” (Ex. 12:5-7, 12-13).

Die vervulling van die pasga was met die kruisiging van die vlekkelose Lam van God wat in die volheid van die tyd mens geword het om vir ons sy lewe af te lê. Johannes die Doper het na Hom gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Petrus het ook na die pryslose offer van hierdie Lam verwys toe hy gesê het: “…julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Paulus sê: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).

Weens die tipologiese aard van die pasga, as ‘n heenwysing na die offer van die Lam van God, was dit duidelik dat hierdie fees tydens een van sy toekomstige vieringe vervul sou word. Die Here Jesus is inderdaad op die dag van die pasgaviering gekruisig. Volgens Markus 14:1-2 wou die Jode só ‘n situasie vermy: “En die pasga… sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien ‘n oproer onder die volk kom nie.”

Die Jode kon egter nie daarin slaag om die stiptelike vervulling van hierdie fees te voorkom nie, en Jesus is op Vrydag die 14de Nisan [11 April 32] gekruisig. Hy het op die negende uur van die dag [3 nm.] die asem uitgeblaas (Mark. 15:34-37), op presies dieselfde uur toe die lam tydens die eerste pasga in Egipte geslag is. Pilatus was verwonderd dat Jesus so gou gesterf het, en het toestemming vir sy begrafnis verleen (Mark. 15: 42-45). Dit is nog voor die Vrydagaand 6-uur afgehandel toe die sabbat sou begin en niemand dan begrawe mag word nie (Luk. 23:52-54; Joh. 19:31).

Het jy al hierdie groot offer in die geloof aanvaar en daarmee vryspraak van sonde én ‘n nuwe lewe verkry? “…die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom… die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jes. 53:5-6). Die vraag is of jou hart deur die bloed van die Lam gereinig is? As die plaasvervangende dood van die Lam van God nie vir jou toegereken is nie, is jou hart en lewe nog nie gereinig nie – dan sal jy self die straf vir jou sonde moet dra. Die Here sê: “As Ek die bloed sien, sal Ek by [jou] verbygaan” (Ex. 12:13). Hy sê nie: “As ek ‘n goeie lewe, ‘n doopseël of ‘n graad in teologie sien, sal Ek by jou verbygaan” nie. Net die bloed van Jesus Christus reinig ons van al ons sondes (1 Joh. 1:7; Ef. 1:7). Die voorwaarde hiervoor is dat ons ons sondes moet bely en laat staan (1 Joh. 1:8-9; Spr. 28:13). Doen dit en jy sal lewe!

Die fees van die ongesuurde brode

“…en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie” (Lev. 23:6-7).

Volgens Johannes 19:31 was die sabbat wat direk op Christus se kruisiging gevolg het, ‘n groot dag. Die rede hiervoor was dat dit tegelyk die weeklikse sabbat en die belangrike eerste dag van die fees van die ongesuurde brode was. Vir die ortodokse Jode is die betekenis van hierdie fees in selfondersoek en verootmoediging geleë. Suurdeeg is ‘n beeld van sonde, daarom simboliseer die eet van ongesuurde brood die nastreef van ‘n heilige lewe. Tydens die volle duur van die fees moet suurdeeg, en selfs ook krummels van gesuurde brood, uit hulle huise verwyder en verbrand word (Ex. 12:15). So ook moet mense geestelik gereinig word deur afstand van hulle sonde te doen.

Die ongesuurde brood moet saam met die vleis van die offerlam én bitter kruie geëet word (Ex. 12:8). Die volk het nie net verlossing deur die bloed van die lam gekry nie, maar moes hulle ook met die vleis van die offerlam voed en versterk om krag te verkry vir die moeilike reis wat voorlê. Die bitter kruie dui op die lyding wat deur sonde veroorsaak is, asook die lyding wat met die offer gepaard gaan. Die volk moes onder die bloed van ‘n onskuldige offerlam skuil sodat hulle marteling en onderwerping aan slawerny beëindig kon word. Die haas waarin die eet van die offermaal moes geskied, was deel van die voorbereidings vir ‘n bevrydingsreis wat onderneem moes word. Die verloste volk van God vertrek op ‘n reis na ‘n nuwe lewe. Hulle is vreemdelinge en bywoners op aarde, wat onderweg na hulle ewige tuiste is.

Hierdie fees, wat ‘n wesenlike deel van die pasgavieringe is, is deur die sterwe en begrafnis van die Here Jesus vervul. Hy is die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het sodat dit veel vrug kan dra (Joh. 12:24). As die volmaakte en sondelose Lam van God is Hy self die ongesuurde brood van die lewe deur wie se krag ons geestelik kan opgroei; daarom kon Jesus sê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee” (Joh. 6:51). Hy verlos ons nie alleen van die slawerny aan die sonde nie, maar stel ons ook deur sý krag en genade in staat om die weg van die verlostes te kan bewandel en die goeie stryd van die geloof te stry.

Van ons word verwag om ons só met Christus as die ongesuurde brood van die lewe te vereenselwig dat ons alle suurdeeg van sonde sal aflê. Paulus sê:

“Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor. 5:6-8).

Soos die Jode van ouds hulle huise op hul knieë in kerslig deursoek het om elke krummel brood wat met suurdeeg gebak is, uit te werp, moet ons ook op ons knieë in die lig van God se Woord ons lewens deursoek en van alle ondeug en boosheid afstand doen. Gebruik die volgende skrifgedeeltes as ‘n riglyn vir hierdie selfondersoek en hertoewyding:

“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23-24). “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spr. 28:13). “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs” (Matt. 16:6). Vormgodsdienstige, antichristelike skrifgeleerdes was deur die eeue heen, tot vandag toe, in verskillende hoedanighede vir godsdienstige dwalinge verantwoordelik. Moet hulle nie navolg in hulle slim verdraaiing van God se Woord nie. Jesus het gesê: “Pas op dat niemand julle mislei nie” (Matt. 24:4). “Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol. 3:8-10). “…gee aan die duiwel geen plek nie… En bedroef nie die Heilige Gees van God nie” (Ef. 4:27, 30). “Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei” (1 Pet. 2:1-2). “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:8-9).

Ons moet alle sondes bely en ‘n skoon breek met die verlede maak, sodat ons nie die pad van die Here met ‘n erfenis van onbelyde sondes sal probeer bewandel nie. Dit sal ons vroeër of later tot struikeling bring. As ons egter alle suurdeeg van ondeug en boosheid uitgewerp het, kan ons met vrymoedigheid na die volgende baken op die weg van die verlostes voortgaan.

Die fees van die eerstelingsgerf

Die volgende feeste is almal aan verskillende stadiums van die jaarlikse insameling van die oes in Israel gekoppel. Hierdie derde fees staan as die fees van die eerstelingsgerf bekend:

“Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg” (Lev. 23:10-11).

Israel is ‘n winterreënvalgebied en gedurende die lente word die eerstelingsgerf van die gars as ‘n beweegoffer voor die Here gebring. Dit moes uitdruklik op ‘n Sondag geskied [die dag ná die sabbat], en sou ook die besonder gewigtige betekenis hê om die volk vir God welgevallig te maak. Met hierdie fees is dus iets veel meer op die spel as net die jaarlikse insameling van die oes, want iets belangriks moet gebeur wat die volk vir God aanneemlik maak.

Omdat die pasga ook in die lentemaand gevier word, is die fees van die eerste vrugte in sy skedulering én betekenis baie nou aan die pasga verbonde. Tydens die uittog uit Egipte was die gars, wat effens vroeër as die koring ryp word, reeds in die aar (Ex. 9:31). In die lentemaand is Israel uit Egipte bevry en het aan die begin van ‘n nuwe lewe gestaan. ‘n Ontmoeting met die Lam van God wat ons sondes wegneem, is ook vir ons die begin van ‘n nuwe lewe in die Here. Ons word aan sy dood én opstanding gelykvormig (Rom. 6:5).

In die jaar toe Jesus gekruisig is, is die beweegoffer van die eerstelingsgerf op die Sondagoggend gebring toe Hy uit die graf opgestaan het. Dit was die dag ná die sabbat, met ander woorde die eerste dag van die week: “…nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdalena” (Mark. 16:9).

Die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het, het op hierdie Sondagoggend sy eerste vrug opgelewer. Dit het die oesseisoen ingelui en die hele oes wat daarna ingesamel sou word, geheilig. Net Jesus alleen kon die eerstelingsgerf wees wat aan God geoffer is om die hele oes wat in sy Naam ingesamel word, te heilig en vir God welgevallig te maak. Hy is die eersteling wat uit die dood opgestaan het, en het dit sodoende vir baie mense moontlik gemaak om uit die dood van die ou lewe op te staan en deel van die groot oes vir die koninkryk van die hemel te word:

“En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof… Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het… Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde; as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms” (1 Kor. 15:14, 20, 22-23).

‘n Verdere belangrike feit is die bepaling dat hierdie fees spesifiek op ‘n Sondag gevier moes word. Dit verteenwoordig profeties ‘n oorgang van die ou verbond na die nuwe verbond. Sondag is die eerste dag van ‘n nuwe week, of dispensasie, in God se raadsplan vir die mens. In hierdie bedeling word die opstanding van Jesus spontaan elke week op Sondag as die dag van die Here gevier. Die fees van die eerstelingsgerf in Levitikus 23 is die vroegste aanduiding in die Ou Testament van ‘n toekomstige Sondagviering as ‘n Christusfees. Op dié dag verkondig ons die boodskap: Hy het opgestaan, Hy leef! Jesus self het op die Sondag van sy opstanding die eerste erediens van die kerkbedeling gehou, asook ‘n week later, weer op ‘n Sondag, die tweede diens (Joh. 20:19-29). Daarna het die dissipels spontaan op Sondae bymekaargekom (vgl. Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:1-2), terwyl die uitstorting van die Heilige Gees as die toerusting aan die kerk vir die taak van wêreldevangelisasie, ook op ‘n Sondag was.

Die pinksterfees

Die fees van die eerstelingsgerf en die pinksterfees is saam as die fees van die eerste vrugte bekend. Hulle staan ook as die fees van die weke bekend omdat hulle presies sewe weke uitmekaar gevier word:

“Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring – sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan die Here bring. Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee tiendes van ‘n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die Here” (Lev. 23:15-17).

Dit is betekenisvol dat hierdie fees ook op ‘n Sondag gevier word – die dag ná die sewende sabbat. Daar is vyftig dae in hierdie sewe weke. Volgens die reël van inklusiewe berekening is daar agt Sondae omdat beide die eerste en die laaste Sondag getel word. Die fees van die vyftigste dag word die pinksterfees genoem, afgelei van die Griekse woord pentecoste wat vyftigste beteken.

Op hierdie dag herdenk die Jode die formele begin van die bedeling van die wet. Hulle glo dat die bevryde Israeliete op die 50ste dag ná die viering van die pasga en hulle uittog uit Egipte by die berg Sinai aangekom het waar Moses die tien gebooie ontvang het (Ex. 19:1-3). Dit was vir só ‘n ortodokse pinksterfees dat Jode uit verskillende lande in Jerusalem bymekaar was op daardie besondere Sondagoggend toe die Heilige Gees uitgestort is, soos in Handelinge 2 beskryf.

Die Christelike pinksterfees is dus op die dag waarop die die Ou Testamentiese pinksterfees gevier is, vervul. Die 50 dae tussen die beweegoffer van die eerstelingsgerf en die pinksterfees het aan die begin van die Nuwe Testament tussen die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees verloop. Ná die Sondag van die Here Jesus se opstanding het 40 dae tot by sy hemelvaart verloop (Hand. 1:2-3), en ‘n verdere tien dae tot by die uitstorting van die Heilige Gees. Ná die Donderdag van die hemelvaart het die dissipels hulleself tien dae lank in die bovertrek verootmoedig en gebid om die belofte van die Heilige Gees te ontvang. Op die dag ná die sewende sabbat sedert paasnaweek is die Heilige Gees oor hulle uitgestort.

Die ortodokse Jode wat vir hulle pinksterfees van die wet byeen was, het glad nie gemerk dat die wet oorgegaan het in die genade en dat die bedeling van die kerk onder alle nasies op daardie dag begin het nie. Hulle was geestelik verblind omdat hulle nie vir Jesus as die beloofde Messias en Lam van God wou aanvaar nie, daarom het hulle aan die skaduagtige Ou Testamentiese feeste bly vashou en dit voortgesit tot vandag toe. Dit is slegs die Messiaanse Jode wat die vervulde Christusfeeste vier.

Watter verskil sou dit nie gemaak het as hulle oë vir hierdie groot waarhede oop was nie! Op Sinai, waar die volk op die 50ste dag ná die pasga die wet gekry het, het 3 000 mense gesterf omdat die wet hulle afgodery rondom die goue kalf veroordeel het. In Jerusalem, waar die Heilige Gees op die 50ste dag ná paasnaweek uitgestort is, is 3000 Jode op een dag gered! Die letter van die wet maak dood, maar die Gees maak lewend (2 Kor. 3:6). Hierdie volmaakte tydsberekening vir die uitstorting van die Heilige Gees dui onmiskenbaar daarop dat die bedeling van genade, wat ook die bedeling van die kerk of die bedeling van die Heilige Gees genoem word, die bedeling van die wet vervang het.

Dit is verder opmerklik dat die pinksterfees nie in isolasie beskou word nie, maar deur middel van ‘n aftelling van 50 dae aan die paasgebeure gekoppel word. Dit is dus nie ‘n losstaande gebeurtenis nie, maar ‘n uitvloeisel van die voorafgaande feeste. Om hierdie rede moet die vervulling met die Heilige Gees altyd in sy noue verband met die sterwe en opstanding van die Here Jesus gesien word. Daar is vandag baie mense wat nalaat om hierdie eenheidsverband te sien. Hulle lê soveel klem op die Gees, en veral op die gawes van die Gees, dat die Here Jesus en sy kruisdood heeltemal op die agtergrond geskuif word.

Soms raak mense só op wonderwerke ingestel dat Jesus nie meer as die gekruisigde voorgestel word nie. Paulus waarsku teen ‘n verwronge en eensydige voorstelling van die evangelie, van die Heilige Gees én van Christus. Hy sê: “Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:3-4). Die waarheid moet altyd van valse voorstellings daarvan onderskei word.

Een ander aspek van die pinksterfees wat opvallend is, is die feit dat twee brode wat met suurdeeg gebak is, as beweegoffers aan die Here gebring moes word. Dit is eienaardig, want suurdeeg is altyd ‘n simbool van sonde. Dit is dus duidelik dat hierdie brode nie op Christus dui nie, omdat Hy die ongesuurde, sondeloos, volmaakte brood van die lewe is, soos voorgestel deur die ongesuurde brode wat tydens die paasfees geëet word. Die twee gesuurde brode dui op die gelowiges uit Israel én die heidendom, m.a.w. op die kerk van Christus wat op hierdie fees sy beslag gekry het. Hoewel hulle ‘n opdrag het om heilig te leef, is hulle nie sondeloos volmaak nie – daarom hierdie besondere wydingsplegtigheid om nie in die vlees te leef nie, maar met die Heilige Gees vervul te word en deur sý krag te leef.

Die insameling van die oes

Ná die fees van die eerste vrugte volg daar ‘n onderbreking van vier maande waarin die oes ingesamel word. Aan die einde hiervan, in die sewende maand op Israel se godsdienstige kalender, word die oorblywende drie feeste kort ná mekaar gevier. Die lang periode tussen die twee groepe feeste dui profeties op die bedeling van die kerk, waartydens ‘n oes vir die koninkryk van die hemele ingesamel word. Dit is ‘n tyd waarin volgehoue arbeid in die oeslande verrig moet word sodat die opgelegde taak binne die toegelate genadetyd afgehandel kan word. Jesus het sy dissipels só tot aksie aangespoor: “Sê julle nie: Dit is nog vier maande dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes” (Joh. 4:35).

By ‘n ander geleentheid het die Here Jesus gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur” (Luk. 10:2). In nog een van sy gelykenisse word na die hele wêreld as ‘n saailand verwys en na die finale insameling van die oes as die voleinding van die wêreld (Matt. 13:38-39).

Hoe lank dit sal duur voordat die oes onder die nie-Joodse volke ingesamel sal wees, blyk onder meer uit die stelling van Jesus dat Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die die tye van die nasies vervul is (Luk. 21:24). Die feit dat die Ou Stad [Bybelse Jerusalem] in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 saam met die hele Wesbankgebied tot teen die Jordaanrivier deur Israel herower is, is ‘n belangrike keerpunt in die herstel van Jerusalem. In 1980 is Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar, en die regeringsetel van Tel Aviv af daarheen verskuif. Tans is dit nog net die 35 akker van die tempelterrein wat nie onder volle Israelse beheer is nie en steeds deur ander nasies vertrap word. Drie moskees is op hierdie baie spesiale terrein opgerig en vorm die basis vir nie-Joodse aansprake oor Jerusalem. Groot oorloë sal volgens Sagaria 12 tot 14 in die eindtyd oor Jerusalem gevoer word.

Hierdie verwikkelinge dui sonder enige twyfel daarop dat die tye van die nasies, m.a.w. die tyd van wêreldevangelisasie, vinnig sy einde nader. Israel se nasionale bekering sal eers ná die kerkdispensasie plaasvind. Dit sal gebeur nadat hulle deur die tyd van die benoudheid van Jakob gegaan het en die Messias met sy wederkoms aan die einde van die groot verdrukking sy voete op die Olyfberg sit (Jer. 30:7; Sag. 12:10; 14:4-5). Paulus verwys ook na die beëindiging van hulle geestelike verharding aan die einde van die kerkbedeling: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).

Noudat ons baie duidelik die einde van die kerkbedeling nader, moet ons enige oomblik die vervulling van die vyfde fees te wagte wees…

Die Basuin van God

“Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ‘n rusdag wees, ‘n gedenkdag deur basuingeklank, ‘n heilige vierdag” (Lev. 23:24).

Die sewende maand [gewoonlik in September] is die einde van die oesseisoen in Israel, en dit word deur ‘n heilige dag van basuingeklank ingelui. Die ortodokse Jode blaas op hierdie dag, asook op die 2de Tisri, op verskillende tye van die dag die ramshoring [shofar] in hulle sinagoges. Op die tweede dag, teen die aand, blaas die laaste basuin om die insameling van die oes vir daardie jaar aan te kondig.

Hierdie twee dae word op Israel se siviele kalender as die Nuwejaarsfees [Rosh Hashanah] gevier. Hulle glo dat die Here in die maand Tisri die aarde geskape het, en dit is altyd as die eerste maand gereken totdat die Here tydens die uittog uit Egipte die orde van die maande verander het (Ex. 12:2). Die bedoeling met hierdie reëling was dat die volk hulle verlossing uit die slawehuis van Egipte as ‘n nasionale wedergeboorte en die begin van ‘n nuwe lewe moes ervaar.

In rabbynse geskrifte word gesê dat die Here op die eerste dag van die sewende maand drie boeke oopmaak. In die eerste is die name van die regverdiges, saam met die seën en gunsbewyse wat hulle van die Here ontvang. Dit sluit geestelike én materiële seëninge in, soos ‘n godvrugtige lewenswandel, goeie gesondheid, voldoende oeste en oorwinning oor die vyand. In die tweede boek is die name van diegene wat nie volkome regverdig is nie, maar ook nie totaal goddeloos nie. Die meeste mense is in hierdie kategorie. Hulle word aan loutering oorgegee en tot ware toewyding aan die Here opgeroep. In die derde boek is die name van die goddelose mense én die oordele van God wat op hulle rus.

Die vervulling van die fees van basuingeklank sal plaasvind wanneer die Here die oes van die regverdiges in die hemel insamel:

“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Kor. 15:51-52). “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:16-17).

Wanneer dít gebeur, kry die regverdiges hulle genadeloon voor die regterstoel van Christus in die hemel (2 Kor. 5:10; Rom. 14:10). Op aarde sal dan ‘n besondere donker tyd van oordele aanbreek, wat met die skrikbewind van die Antichris gepaard sal gaan. Israel sal deur ‘n louteringsproses gaan, sodat ‘n oorblyfsel van die volk gered kan word. Onder die nasies sal daar ook ‘n oorblyfsel wees wat die Here sal soek en ten koste van hulle lewe sal weier om ‘n bondgenootskap met die Antichris aan te gaan. Die ongeredde vormgodsdienstiges, asook die teruggevallenes en al die geestelik onverskilliges en ongelowiges sal dan finaal moet besluit wie hulle wil dien – die ware Christus of die Antichris. Oor die goddeloses wat ‘n verbond met die Antichris sal sluit deur hom te aanbid en sy nommer op hulle regterhand of voorkop te ontvang, sal die oordele van God uitgestort word.

In Israel se feesprogram volg daar ná die 1ste en 2de Tisri die sogenaamde “sewe verskriklike dae” waarin die gelowige Jode hulle verootmoedig, vas, hulle sondes bely en goed aan andere doen sodat hulle die guns van die Here kan wen. Dit word gedoen as geestelike voorbereiding vir die groot versoendag wat op die 10de Tisri gevier word, sodat die Here hulle moet seën en nie veroordeel of verwerp nie.

Hierdie sewe dae dui profeties op die sewe jaar van die verdrukking, wat Daniël se 70ste jaarweek is (Dan. 9:27). In tye van groot benoudheid sal Israel en die nasies óf die ware Messias soek, óf tot hulle eie ondergang navolgers van die valse Messias word.

Die groot versoendag

“Op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ‘n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die Here ‘n vuuroffer bring” (Lev. 23:27).

Hierdie is die belangrikste godsdienstige feesdag in Israel, en dit was tradisioneel die enigste dag van die jaar waarop die hoëpriester die Allerheiligste agter die voorhangsel kon binnegaan om versoening vir die volk se sondes te doen. Hierdie fees sal profeties vervul word wanneer die Messias met sy wederkoms sy voet op die Olyfberg sit en elke oog Hom sal sien, ook hulle wat Hom deursteek het [Israel]. Op daardie dag sal Hy met Israel as volk versoen word. Dan sal daar vir hulle, volgens Daniël 9:24, ewige geregtigheid aanbreek. Dit geld net vir Israel in volksverband omdat hulle nog nie deur Jesus met God versoen is nie. Hierdie ontstellende gedagte het die profeet laat uitroep: “Die oes is verby, die somer is ten einde, en óns is nie verlos nie!” (Jer. 8:20). Hosea bevestig egter die uiteindelike geestelike herstel van Israel: “Ook vir jou, o Juda, is daar ‘n oes beskik as Ek die lot van my volk verander” (Hos. 6:11). Oor hierdie aangrypende gebeurtenis sê Sagaria:

“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem… In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid… Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 12:10-11; 13:1, 9).

Die Christene se groot versoendag is die kruisiging van die Here Jesus op Goeie Vrydag. Die toekomstige dag van versoening [Jom Kippoer] moet dus as ‘n Joodse feesdag gesien word wat hoofsaaklik vir Israel van belang is omdat dit na die unieke geleentheid van hulle nasionale bekering verwys. Die Here het t.o.v. Israel gesê: “Ek sal die skuld van hierdie land op een dag uitdelg” (Sag. 3:9). In Jeremia 31:34 word gesê dat die hele oorblyfsel van Israel gered sal word, en Sagaria 8:23 bevestig die feit dat hulle grootliks geëer sal word deur al die nasies omdat almal sal sien dat God met hulle is.

Daar sal op hierdie dag ook ‘n oorblyfsel uit die nasies gered word wat die groot verdrukking en die slag van Armagéddon oorleef het en ook nog nie ‘n verbond met die Antichris gesluit het nie. In sy profetiese rede verwys die Here Jesus na die dramatiese dag van sy verskyning in heerlikheid:

“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Johannes sê in Openbaring 1:7: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf.”

Op hierdie dag van versoening met ‘n gelowige oorblyfsel uit Israel en die nasies, sal die Here ook sy vyande in toorn verdelg. Israel weet uit ervaring in die verlede dat as hulle nie gedurende die “sewe verskriklike dae” voor die groot versoendag guns in die oë van die Here gevind het nie, Hy die hoëpriester se offer kon verwerp en die volk aan hulle vyande oorgee. Met sy wederkoms sal Hy genade bewys aan dié wat in die geloof na Hom opsien, maar vir die goddelose sal dit ‘n dag van goddelike wraak wees (Op. 19:19-21).

Die loofhuttefees

“Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here… Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die Here julle God” (Lev. 23:34, 42-43).

Hierdie is ‘n vreugdefees wat ná die finale insameling van die oes gevier word om die Here vir al sy weldade van daardie betrokke jaar te bedank, insluitende die oes wat gemaak is. Tweedens het dié fees ‘n terugwaartse verwysing na die uittog uit Egipte toe die kinders van Israel in hutte in die woestyn gebly het. Ter herinnering hieraan slaap baie mense nou ook in hutte of onder takskerms in hulle tuine en dank die Here dat Hy hulle voorvaders veilig deur die gevaarlike woestyn gelei en na die Beloofde Land gebring het. Derdens het die fees ‘n toekomsgerigtheid deurdat dit duidelik met die koms van die Messias verbind word. Dan sal die oes onder Israel en die nasies ingesamel wees en die Messias op aarde uit Jerusalem regeer.

As gevolg van die sterk Messiasverwagting tydens hierdie fees het Jesus se broers Hom in Johannes 7 versoek om die viering van die huttefees in Jerusalem by te woon en Homself daar as Messias bekend te stel. Daar is baie oor Hom geredeneer, maar die owerstes van die volk het Hom nie as die beloofde Messias aanvaar nie. By sy tweede koms sal hulle dit wél doen. Jesus het na sy hemelvaart en tweede koms verwys toe Hy aan hulle gesê het: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Dit is ‘n uitdrukking wat ook in Psalm 118:26 voorkom en deel van die liturgie van die loofhuttefees is. Die rabbi’s sê dit op sonder om te besef dat dit op Jesus se wederkoms betrekking het! Op hierdie fees lees hulle ook Sagaria 14 in die sinagóges voor. Dit handel onder andere oor:

·      die koms van die Here met al sy heiliges (v. 4-5);

·      die koningskap van die Messias (v. 9);

·      die verhoging van Jerusalem (v. 8-11);

·      die vernietiging van die vyande van Israel (v. 12-15);

·      die verpligte deelname deur al die ander nasies aan die huttefees in Jerusalem gedurende die Messiasryk (v. 16-18).

In Sagaria 14:16 is daar ‘n duidelike bepaling dat lede van nie-Joodse nasies aan hierdie fees sal deelneem nadat die Messias-Koning van Israel gekom het: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier.”

Op grond van dieselfde skrifgedeelte het Christene uit verskillende wêrelddele besluit om hulle solidariteit met Israel te bewys deur ook hierdie fees te vier. In 1980, die jaar toe Jerusalem deur ‘n voormalige eerste minster, mnr. Menachem Begin, tot die hoofstad van Israel verklaar is, het ‘n duisend Christene uit 20 lande in Jerusalem aan ‘n huttefees deelgeneem wat hulle self gereël het. Groot was hulle verbasing toe die Joodse leiers hulle met ope arms verwelkom het, en hierdie gebaar in die lig van Sagaria 14 as ‘n duidelike teken aanvaar het dat die koms van die Messias naby is. Positiewe publisiteit is hieraan in Israel verleen, en die Christene is ook versoek om met hulle baniere in ‘n ereplek voor die Israeli-weermag aan die Jerusalem-mars deur die strate van die stad deel te neem.

Op die laaste dag van die fees is ‘n Christenambassade in Jerusalem gestig, wat namens die internasionale Christengemeenskap met die Israeli-regering skakel en hulle Bybelse reg op die land Israel ten volle erken. Hulle help ook met die hervestiging van Jode wat uit ander lande na Israel verhuis, veral die migrasie van duisende arm, Russiese Jode. Verrigtinge by die ambassade word daagliks met gebede vir die veiligheid van Jerusalem begin, soos in Psalm 122:6 en Jesaja 62:6-7 beveel word: Bid om die vrede van Jerusalem, totdat die Here hierdie stad verhef en maak tot ‘n lof op aarde!

In 1981 het Christene se bywoning van die fees drasties toegeneem toe daar 3500 persone uit 35 lande was – onder meer 400 uit Suid-Afrika. In die negentigerjare het die getal besoekers gegroei tot sowat 6000 mense uit meer as 80 lande.

Met die koms van Christus sal die loofhuttefees in volle vervulling gaan. Dan sal ons saam die Here loof vir ons verlossing uit die slawerny van sonde, en ook omdat Hy ons in moeilike tye in ons pelgrimsreis op aarde deurgedra het totdat ons ons ewige tuiste bereik het. Vir die groot oes van gelowiges wat ingesamel is, sal eer en danksegging aan Hom gebring word.

Hiermee sal die heilsplan van God wat sy oorsprong by die slag van die Paaslam gehad het, tot volvoering gebring word. Die oes onder Israel en die nasies sal dan ingesamel wees, die vyande van God onder leiding van die Antichris verdelg en die koningskap van die Messias in die vrederyk bevestig wees.

Persoonlike belewenis

Wat is jou persoonlike belewenis van dié Christusfeeste? Elke geredde mens se geestelike pelgrimsreis begin by die Lam wat vir ons geoffer is, m.a.w. by die kruis van Jesus waar die straf vir ons sonde betaal is. Ná die belydenis en aflegging van ons sondes, staan ons saam met Christus in ‘n nuwe lewe op. Hierna gaan ons voort om deur verootmoediging en ‘n volle oorgawe op die vervulling met die Heilige Gees te wag. Die toerusting met krag uit die hoogte stel ons in staat om getuies vir Jesus te wees en betrokke te raak by die insameling van die oes vir die koninkryk van die hemele. Hiermee wil die Here ons besig vind wanneer die basuin vir die ontmoeting met Hom weldra sal blaas.

Diegene wat sal agterbly wanneer die Here met die wegraping sy oes onder Israel en die nasies insamel, sal die grootste verdrukking van alle tye onder die tirannie van die Antichris in die gesig staar. Wanneer die heiliges ná sewe jaar saam met Christus terugkeer aarde toe, word die Antichris se ryk by die slag van Armagéddon verdelg en die Messiasryk op aarde gevestig.

Om in die finale triomf van die Here Jesus te deel, moet ons die hele pad met Hom loop en ook ondervind wat dit is om deur die wêreld verdruk en verwerp te word. Dit is slegs as ons saam met Hom ly, dat ons ook saam met Hom verheerlik sal word en saam met Hom sal regeer (Rom. 8:17; Fil. 1:28-29; 2 Thess. 1:5; 2 Tim. 2:12; 1 Pet. 5: 10).

Omdat die volgelinge van Jesus ‘n moeilike en smal paadjie moet bewandel, is baie van hulle nie bereid om hulle kruis op te neem en as dissipels van Christus hulle lig in ‘n bose wêreld te laat skyn nie (Luk. 9:23). Hulle skuif liewer die swaarkry, opofferings en lyding eenkant toe en eis nou reeds die voordele van probleemvryheid, koningskap en oorvloed op wat eers in die vrederyk ons deel sal wees. Die waarheid is dat hulle nie regtig die kruis wil opneem waaraan hulle vir die wêreld en die wêreld vir hulle gekruisig word nie. Die kosteberekening om die dikwels eensame paadjie van diensbaarheid en stryd saam met die Here Jesus te bewandel, is eenvoudig vir hulle té hoog.

In werklikheid deins die meeste mense heeltemal weg van die kruis, en begin nie eers met hierdie pelgrimsreis deur die sewe feeste heen na ewige heerlikheid nie. Tydens Jesus se aardse bediening was dit ook so. Hy het skares populêre ondersteuners gehad toe Hy genesings en ander wonderwerke gedoen het. Hulle het graag na sy preke geluister en in duisendtalle saamgetrek waar hy die brode vermeerder het. Met alle geweld wou hulle Hom koning van Israel maak. Toe Hy egter van sy kruisdood spreek, en die feit dat mense ook deel van sy liggaam en bloed moes kry om gered te kan word, het die groot getal opportuniste dit as ‘n harde woord beskou, belangstelling verloor en weggegaan. Selfs sy gereelde volgelinge, behalwe die twaalf, het Hom ook om dieselfde rede verlaat (Joh. 6:51-69).

Is dit nie vandag ook nét so nie? Waar genesings en wonderwerke plaasvind en voorspoed vir almal verkondig word, trek groot skares mense saam. Die opwinding geval hulle baie en die boodskap streel hulle gehoor. Verder as dit gaan dit egter nie. Wanneer daar gepraat word van die kruis van Christus, van selfverloëning en die komende oordele, kry hulle gou koue voete en onttrek hulleself. Hulle wil nie soldate van die kruis wees nie, maar soek na die koningskap, mag en ander voordele wat in ‘n koninkryk-nou teologie aan hulle gebied word. Dit klink miskien baie goed, maar is dispensasioneel totaal uit plek met die situasie waarin ons onsself nou bevind. Dit is nie die weg van die kruis nie!

In Egipte was daar slegs redding vir diegene wat onder die bloed van die lam geskuil het. Hulle het met ‘n reis begin wat ná baie toetse en beproewings uiteindelik na die Land van Belofte gelei het.

Is jy ook op hierdie reis, en maak jy vordering in jou geestelike lewe? Die jaarlikse feeste is bedoel om tye van verkwikking voor die aangesig van die Here te wees om jou geestelik toe te rus vir pad wat voorlê.

Jesus se geboorte tydens die loofhuttefees

As ‘n epiloog tot die bespreking van Israel se feeste word die volgende inligting oor die werklike tyd van Jesus se geboorte aangebied, omdat dit met die loofhuttefees saamval. Hierdie mening word deur verskeie Bybelkenners gehuldig.

‘n Sleutelbegrip in die bepaling van die tyd van Jesus se geboorte is die maand van die priester Sagaria (die vader van Johannes die Doper) se jaarlikse dienswerk in die tempel, omdat die daaropvolgende gebeure chronologies daaraan gekoppel word. As agtergrond moet daar eers gelet word op die jaarlikse siklus van dienswerk wat koning Dawid vir al die priesters ingestel het. In 1 Kronieke 24 word die name van die families genoem wat in ‘n vaste volgorde twee weke elk per jaar priesterlike diens moes verrig. Dit was binne die raamwerk van Israel se godsdienstige kalender waarin die eerste maand Nisan (die lentemaand) is waartydens die Pasga op die 14de dag gevier word (Ex. 12:2, 6; Lev. 23:5).

Die agtste van hierdie 24 families was dié van Abia (1 Kron. 24:10), derhalwe was hulle die tweede helfte van die vierde maand aan diens. Sagaria het aan hierdie familie behoort: “Daar was in die dae van Herodes, koning van Judea, ‘n sekere priester met die naam van Sagaria, uit die afdeling van Abia… En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling, het die lot volgens die priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here en reukwerk te brand” (Luk. 1:5, 8-9).

Terwyl hy in die tempel besig was, het ‘n engel aan hom verskyn en gesê: “Moenie vrees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou ‘n seun baar, en jy moet hom Johannes noem” (Luk. 1:13). Die res van die gebeure word hieraan gekoppel:

“En ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank verberg… En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ‘n stad in Galilea met die naam van Nasaret, na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria… En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid… En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook ‘n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is. Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie. En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord” (Luk. 1:24, 26-27, 30-33, 36-38).

Sagaria se ontmoeting met die engel en die begin van sy vrou se swangerskap kort daarna, was in die tweede helfte van die vierde maand in Israel se godsdienstige kalender. Ses maande later, in die tweede helfte van die tiende maand (rondom ons huidige Kersfeesvieringe) het Maria se swangerskap begin. Nege maande later, in laat September, is Jesus gebore.

Sedert Sagaria se dienswerk toe die engel aan hom verskyn het, het dus 15 maande (6+9) verloop totdat Jesus gebore is. Dit is een jaar en drie maande, m.a.w. van die tweede helfte van die vierde maand tot die tweede helfte van die sewende maand in die daaropvolgende jaar. Dit val presies met die loofhuttefees saam (Lev. 23:34).

Daar is verder ook omstandigheidsgetuienis dat Jesus nie in die middel van die noordelike halfrond se winter gebore is nie, omdat die herders nog buite geslaap het met die vee. In September, tydens die loofhuttefees, is dit vroeg herfs en het hulle wél nog buite geslaap.

In die lig van hierdie duidelike feite moet die vraag beantwoord word waar die datum van ons Kersvieringe dan sy oorsprong het. Dit kan teruggevoer word na die vierde eeu n.C. tydens die bewindstermyn van die Romeinse keiser, Konstantyn. Hy het gelas dat die vervolging van die Christelike kerk gestaak word, en het gelyke erkenning met die heidense godsdienste daaraan verleen.

Groot kompromiemakery het in hierdie tyd plaasgevind, want verskeie heidense feeste het met die Christelike tradisies vermeng geraak. Een van hierdie heidense instellings was die fees vir die onoorwinlike son (Invicti Solis) wat op 25 Desember gevier is. Op hierdie dag elke jaar begin die son om in die noordelike halfrond terug te draai nadat dit op 21 Desember sy verste punt bereik en dan ‘n paar dae voor sy terugtog stilgestaan het. Tydens die sonstilstand is heidense rituele uitgevoer om die son te laat terugdraai. Die opvatting is gehuldig dat indien hierdie feeste en rituele nagelaat is, die son ál hoe verder suid sou beweeg, en dat ysige koue en groot duisternis oor die aarde sou toesak. Groot vreugde en uitbundige feesvieringe het egter op 25 Desember plaasgevind wanneer die son begin terugdraai, omdat die aanbreek van ‘n nuwe lente- en somerseisoen daardeur verseker is. Die mense het groot feesmaaltye aangebied, gedans, drank misbruik en aan mekaar geskenke gegee.

Die kerk van die vierde eeu het hierdie fees gekersten deur die beskouing dat Christus die son van geregtigheid en die lig van die wêreld is. Hulle het die viering van sy geboortedag na 25 Desember verskuif, en sodoende ‘n nuwe betekenis aan die vieringe van daardie tyd verleen. Die eet en drinkpartye is geregverdig as ‘n Christelike vreug-defees, en die gee van geskenke omdat Christus God se geskenk aan die mensdom is. Is dit reg om aan mekaar geskenke te gee as dit eintlik Christus se geboortedag is? Moet ons nie liewer ‘n geskenk vir die uitbreiding van sy koninkryk gee nie? Geskenke aan ons kinders kan maar op hulle verjaardae, of by ander geleenthede, gegee word.

Dan is daar ook ‘n vroeëre Babiloniese tradisie wat steeds by die feesvieringe van 25 Desember gehandhaaf word, en dit is om ‘n groen boom in die huis te bring en rondom dit te dans. Die Babiloniërs het die songod, Sjamasj, só vereer.

Hoewel ons as Christene met Kersfees niks anders as net die viering van Christus se geboortedag bedoel nie, volg ons tóg onbewustelik sekere heidense gebruike na. Die kommersialisering, geldvermorsing, uitspattige jolyt en drinkery is in elk geval nie tot die eer van die Here se heilige Naam nie, en pas meer by die heidense fees van die songod. Dit behoort ons tog te kan aflei uit die feit dat die aanhangers van die heidense gelowe ook kliphard “krismis” vier. Vir die meeste van hulle is dit Xmas, wat ‘n berekende poging is om “Christ” in die woord Christmas te vervang en met ‘n X uit te kanselleer.

Kom ons keer na die Bybelse feesdae terug en vier Christus se geboortedag op die loofhuttefees. Dan word dit terselfdertyd ‘n fees met ‘n sterk toekomsgerigtheid, deurdat ons ook by dié geleentheid na die Here Jesus se wederkoms vooruitkyk.

Dieselfde regstellende aksie kan by Paasfees (Eng. Passover) gedoen word wat “Easter” geword het in navolging van ‘n heidense lentefees. By laasgenoemde is hasies en eiers as simbole van die lente gebruik, en só is die lentegod vereer.

Israel se feeste, soos in die Messias vervul, is ons enigste Bybelse raamwerk vir feesvierings.

 

8. Die Belangrikheid van Jerusalem

Jerusalem is van baie groot profetiese betekenis – nie net in historiese tye nie, maar ook vir die toekoms. Die geestelike betekenis van hierdie stad moet goed begryp word, want in die lig daarvan sal die sataniese aanvegtinge teen Jerusalem ook reg beoordeel kan word.

Die Geestelike Betekenis van Jerusalem

Die heilsgeskiedenis van Jerusalem het 4000 jaar gelede begin toe ‘n Man van God, Melgisédek, die koning van Salem was. In Hebreërs 7:1-3 lees ons van hom:

“Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook ‘n tiende deel van alles gegee het – hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.”

Melgisédek was ‘n tipe van Jesus, of, volgens sommige verklaarders, ‘n Ou Testamentiese verskyning van Jesus. Hy was die priester-koning van geregtigheid en vrede. Dit is titels van die Here Jesus, want Hy is priester volgens die orde van Melgisédek. Verder is Hy die Koning van die Jode én die hele wêreld, met sy aardse troon in Jerusalem. Hy is ook ons geregtigheid en ons vrede. Abraham het na Salem gegaan (waar die latere Jerusalem op die berg Sion en die tempelberg, Moria, gebou is) om tiendes aan Melgisédek te gee. Só sou Israel én miljoene Christene in die eeue wat kom, na die “huis” van die Here optrek om uit erkentelikheid en dankbaarheid hulle besittings én lewens aan Hom te offer.

Abraham het later na die berg Moria teruggekeer om sy seun Isak aan die Here te offer. Die Here se opdrag aan hom was: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys” (Gen. 22:2).

Hier, waar die tempel van die Here ‘n duisend jaar later gebou sou word, en baie diere geoffer sou word as heenwysings na die uiteindelike offer van die Seun van God nét buite Jerusalem, moes Abraham sy enigste seun aan God offer. Isak was ‘n tipe van die Here Jesus, want hy moes onskuldig geoffer word nadat hy die hout vir die brandoffer op sy eie skouers gedra het. Op die laaste oomblik het die Here ‘n bok aan Abraham gegee om in die plek van Isak te offer, want Isak was maar net ‘n tipe van die Lam van God wat in die volheid van die tyd vir die sondes van die hele wêreld geoffer sou word.

Hierdie plek, waar Melgisédek priester was en waar Abraham sy seun aan die Here moes offer, was baie spesiaal omdat dit deur die Here self uitgekies is om sy Naam daar te laat woon. Vyfhonderd jaar ná die tyd van Abraham het Moses aan die volk gesê:

“Julle sal deur die Jordaan trek en woon in die land wat die Here julle God julle laat erwe… Dan moet julle na die plek wat die Here julle God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand…” (Deut. 12:10-11).

Jerusalem deur Israel verower

Nog vyfhonderd jaar later, m.a.w. ‘n duisend jaar voor Christus, het koning Dawid die stad Jerusalem van die Jebusiete verower en dit Jerusalem genoem: dit beteken “Vredebesit.” Die stad is ook “Sion” genoem as gevolg van die berg Sion waarop dit gebou is, en “Die Stad van Dawid.” Koning Dawid was die belangrikste vegtende koning van Israel wat ooit in Jerusalem regeer het. Hy het vir God se koninkryk groot oorwinnings teen die omringende heidendom behaal. Dit was ook uit die geslag van Dawid dat die Messias gebore is.

Dawid wou vir die Here ‘n huis in Jerusalem bou, maar God het gesê dat sy seun ná hom die huis sou bou (2 Sam. 7:12-13). Nadat Salomo die tempel gebou het, het God gesê: “Ek het hierdie huis wat jy gebou het, geheilig deur my Naam daar te vestig tot in ewigheid” (1 Kon. 9:3). Die Here noem Jerusalem: “Die stad wat Ek vir My verkies het om my Naam daar te vestig” (1 Kon. 11:36). God se Naam is vir ewig aan Jerusalem verbonde. Dit is inderdaad die stad van die groot Koning! (Ps. 48:3).

Salomo het die eerste tempel gebou en die heerlikheid van die Here het sy intrek in die gebou geneem. Die Here is hier vereer en aanbid, en Hy het Homself ook deur die diens van die priesters en profete aan die volk geopenbaar. Tye van geestelike verval het egter in Israel ingetree, en tot die verwaarlosing van die tempeldiens in Jerusalem gelei. Godvresende konings het die tempeldiens herstel, waarna verval maar weer ingetree het. As gevolg van die volhardende goddeloosheid het die heerlikheid van die Here uiteindelik die tempel verlaat, en het Hy die volk aan hulle vyande oorgegee. Die tempel én die stad is geplunder en verwoes, en die Babiloniese ballingskap van Israel het gevolg.

Dit het egter nie die Here se ewige verbintenis tot Jerusalem beëindig nie. Ná sewentig jaar is Israel in hulle land herstel en is Jerusalem en die vervalle eerste tempel weer opgebou. Dit het as die tempel van Serubbábel bekend gestaan. Weer het goddeloosheid ingetree, wat daartoe gelei het dat die Here sy teenwoordigheid aan die tempel onttrek het, en ná Maleági vir 400 jaar nie weer ‘n profeet na Israel gestuur het nie. Die volk is ook aan hulle vyande oorgegee en die tempel het uiteindelik heeltemal bouvallig geraak. Weens hul eie toedoen het geestelike duisternis in Israel én hulle vervalle heiligdomme in Jerusalem geheers.

Sedert omtrent 40 v.C. het Herodes die Grote as koning van Judéa regeer. Om die Jode se guns te wen en ook hulle Messiaanse verwagtinge te onderdruk, het hy ‘n nuwe tempel in Jerusalem laat bou. Dit staan as die tweede tempel, of die tempel van Herodes, bekend. Die tempeldiens is weer ten volle herstel.

Koms van die Messias

Die grootste openbaring van God aan Israel én die hele mensdom het egter met die koms van sy Seun, Jesus, na die aarde plaasgevind. Die engel het aan Maria gesê: “Jy sal ‘n Seun baar en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). Jesus was die opgaande lig uit die hoogte vir ‘n volk wat in duisternis gewandel het.  Hy is egter veel meer as dit, want Hy is die lig van die hele wêreld. In ‘n Messiaanse profesie in Jesaja 49 het God van Jesus gesê: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:6). Johannes die Doper het na Hom gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29).

Die Here Jesus het in Jerusalem, daardie unieke stad van godsopenbaring, die boodskap van die ewige lewe verkondig. Hy het ook in die tempel geleer. Hy én sy boodskap is egter deur die groot meerderheid van die leiers en inwoners van die stad verwerp. Hierdeur het hulle groot ellende oor hulleself gebring. Tydens sy intog in Jerusalem op ‘n esel was Jesus baie bewoë oor die stad en sy geestelik verblinde inwoners:

“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:41-44).

God het Homself deur sy Seun aan Jerusalem se inwoners openbaar, maar hulle het dit ten spyte van talle duidelike Messiaanse profesieë nie raakgesien nie en Hom verwerp. Jesus is as gevolg van beplande verraad teen Hom gevange geneem, in die stad verhoor, bespot, verneder en onskuldig veroordeel. Die Joodse volksleiers het só sterk op sy kruisiging aangedring dat die Romeinse goewerneur, Pontius Pilátus, ter wille van populariteit onder die Jode aan die druk toegegee het.

Die Here Jesus is nét buite Jerusalem by Gólgota, in die steengroewe van Salomo, gekruisig. Hier is die groot soenoffer vir die sondes van ‘n verlore mensdom aan God betaal. Vir ewig sal Gólgota uitstaan as die uitdrukking van God se neerbuigende liefde en vergewensgesindheid, en as die enigste poort tot die ewige lewe. Daar is geen ander naam onder die hemel gegee waardeur mense gered kan word nie – net Jesus Christus en Hom as die gekruisigde.

Jesus is net buite die stadsgebied van Jerusalem begrawe en het drie dae later uit die dood opgestaan. Op die Sondag van sy opstanding het Hy die eerste erediens van die Christelikie bedeling in Jerusalem aan sy dissipels gelewer, en ‘n week later die tweede een (Joh. 20:19-29). Veertig dae ná sy opstanding het Jesus van die Olyfberg af na die hemel opgevaar. Nét voor dit het Hy die opdrag van wêreldevangelisasie aan sy dissipels gegee. Dit sou egter eers gebeur nadat nóg ‘n belangrike heilsgebeurtenis in Jerusalem plaasgevind het, nl. die uitstorting van die Heilige Gees:

En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte (Luk. 24:49).

Dit was die belofte van bekragtiging deur die Heilige Gees: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Op pinksterdag, toe die Heilige Gees oor die dissipels uitgestort is, het die proses van wêreldevangelisasie begin. Op daardie dag is drieduisend siele gered en het die kerk van Christus sy geboorte in Jerusalem gehad. Daarvandaan sou die boodskap van die gekruisigde en verrese Heiland in die hele wêreld verkondig word, van Jerusalem af en verder, tot in die uiterste dele van die aarde.

Voortgesette rol van Jerusalem

Die groot vraag is: Was die rol van Jerusalem as ‘n plek van godsopenbaring hiermee vervul en uitgedien? Wat van die Here se besluit dat Hy sy Naam vir ewig in Jerusalem sou vestig? Het dit tot ‘n einde gekom toe Israel vir Jesus verwerp en laat kruisig het? Allermins! Die langtermyn toekoms van Jerusalem was nog altyd, en is nog steeds, binne God se raadsplan seker en gewis.

Om meer duidelikheid hieroor te kry, moet die profetiese rede van die Here Jesus bestudeer word. Hierin het Hy die eerste én laaste geslag in die huidige dispensasie tussen sy eerste en tweede koms beskryf. Altwee hierdie geslagte staan in verband met gebeure wat in Jerusalem plaasgevind het, en nog hier sál plaasvind.

Die eerste geslag is met die verwerping en kruisiging van Jesus deur die inwoners van Jerusalem ingelui, en met die vernietiging van die stad en die tempel in die jaar 70 n.C. beëindig. Oor sy verwerping as Messias en die gevolglike verwoesting van Jerusalem het Jesus aan die geestelik verblinde volksleiers gesê:

“Maak die maat van julle vaders dan vol… sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom [die geslag wat daardie tyd geleef het]. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:32, 35-39).

Lukas beskryf die verwoesting van Jerusalem en die gevolglike lang internasionale verstrooiing (diaspora) van Israel só:

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word… want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20-24).

Die eerste geslag het dus begin met die verwerping van Jerusalem se Messias-Koning, en daardie geslag is met die verwoesting van die stad beëindig. Hierna het die lang internasionale verstrooiing van Israel gevolg, waartydens Jerusalem deur die nasies vertrap is. Let egter daarop dat Jerusalem nie onbepaald vertrap word nie, maar totdat die tye van die nasies vervul is. Aan die einde van die tydperk van wêreldevangelisasie, wanneer die nie-Joodse nasies die geleentheid het om in die koninkryk van die Here in te kom, sal Israel, hulle land én hulle stad weer herstel word. Paulus sê hieroor:

“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).

Israel gaan dus gered word nadat die volheid van die heidene ingegaan het – dit is die oes onder die nie-Joodse nasies. Die Here Jesus het vir die Jode gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.” Daar kom dus ‘n keerpunt aan die vertrapping van Jerusalem en die gepaardgaande internasionale verstrooiing van Israel! Wanneer Israel in hulle land terug is en Jerusalem herstel is, sal die Messias-Koning vir ‘n tweede keer na hulle toe kom, en dié keer sal hulle Hom aanvaar. Tydens sy eerste koms het Jesus na hierdie wonderlike herontmoeting verwys toe Hy gesê het: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”

Dit vind in die laaste geslag van hierdie bedeling plaas. Die herstel van Israel in 1948 was ‘n belangrike voorspel tot die herowering van Jerusalem en die begin van die laaste geslag. In Junie 1967, in die Sesdaagse Oorlog, het hulle die Ou Stad [dit is Bybelse Jerusalem] van Jordanië verower. Hierna sou nog net die vertrapping van die tempelterrein deur die Moslems voortduur.

Die 70ste jaarweek

In die laaste sewe jaar van die laaste geslag sal die 70ste jaarweek van Daniël verloop. Dit is die verdrukking van sewe jaar onder die bewind van die Antichris. Hierdie jaarweek sal uit twee duidelik onderskeibare helftes van 3½ jaar elk bestaan. Tydens die eerste 3½ jaar sal daar ‘n valse vrede op aarde heers, wanneer Israel die Antichris as die beloofde Messias sal aanvaar. Jesus het hierna verwys toe Hy vir hulle gesê het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

Kort ná die openbaring van die Antichris sal die derde tempel met sý goedkeuring in Jerusalem gebou word. In die middel van die verdrukking sal die Antichris homself in hierdie tempel tot God verklaar en ook ‘n afgodsbeeld van homself daar laat oprig (2 Thess. 2:4; Op. 13:14-15). Israel sal dan besef dat hy ‘n valse messias was, en hulle verbond met hom verbreek. Daar sal ook uit ander oorde opstand teen die Antichris se wêreldryk wees, en dit sal hom tot ‘n militêre skrikbewind laat oorgaan. Hy sal opstandelinge deur geweld onderwerp en Israel as volk probeer uitdelg. Die volgende 3½ jaar word in die Bybel as ‘n groot verdrukking beskryf soos wat daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:15-22).

Vir Israel sal hierdie 3½ jaar ‘n louteringsproses wees, sodat hulle hulself kan ondersoek en tot die ware God bekeer. Die Here het gesê: “Ek sal julle versamel en met die vuur van my grimmigheid teen julle blaas” (Eseg. 22:21). In Hoséa 6:15 sê Hy: “In hulle nood sal hulle My soek.” Uit die komende groot verdrukking, wat as ‘n geestelike louteringsproses oor ‘n afvallige Israel sal kom, sal daar ‘n oorblyfsel gered word. Jeremia sê: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). Die volk sal dus nie in die groot benoudheid verdelg word nie.

Die Antichris sal weet dat die ware Messias aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking na Jerusalem sal terugkeer, daarom sal hy ‘n wêreldmag in Israel ontplooi om teen die Messias te veg. Hy én sy magte sal egter hier verdelg word (Op. 19:19-21). Die oorblyfsel in Israel weet ook uit die Ou Testament dat die Messias na Jerusalem kom, en dat dit daardie dag tot hulle redding sal wees:

“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal… En julle sal vlug in die dal van my berge… Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!… In dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike [die Dooie See] en die ander helfte daarvan na die Westelike See [die Middellandse See]… En die Here sal Koning wees oor die hele aarde… en almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sag. 14:4-5, 8-9, 16).

Daar sal ‘n hartroerende ontmoeting tussen Israel en hulle Messias-Koning wees, wanneer hulle vir Hom sal sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.” Die Here het beloof:

“Oor die huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind… In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid… Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 12:10; 13:1, 9).

Nadat die volk met die Here Jesus versoen is, sal Hy ook die troon van Dawid in Jerusalem herstel. Dan sal ‘n belofte vervul word wat die engel van die Here reeds voor Jesus se geboorte aan Maria gemaak het: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32). Jesus het nog nooit van die troon van Dawid af regeer nie, maar ná sy wederkoms sal Hy dit wél doen:

“Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17; vgl. Amos 9:11-12 en Jes. 16:5).

Jerusalem die wêreldhoofstad

Jerusalem sal verhef word tot die hoofstad van die hele wêreld. Die Here Jesus sal die Koning van die konings wees, en vrede sal oral op aarde heers:

“Baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:3-4). “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).

Omdat Satan in daardie tyd gebind sal wees, sal hy die nasies nie tot haat, rebellie, oorlogvoering en ander sondes kan aanhits nie. Hulle sal spontaan die Here se guns in Jerusalem soek, asook dié van sy volk Israel, en in sy weë wandel:

“So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek… In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23).

In hierdie bedeling sal Jerusalem ‘n stad van glansryke heerlikheid wees. Na hierdie tyd van harmonie en vrede op aarde moet elke kind van die Here reikhalsend uitsien en Jerusalem nou reeds toeroep:

“Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad!” (Jes. 52:1). “Aanskou Sion, die stad van ons feestelike samekoms! Jou oë sal Jerusalem sien as veilige woonplek, as tent wat nie wegtrek nie, waarvan die penne nooit meer uitgeruk word nie en geeneen van sy toue ooit losgeskeur word nie. Maar daar sal die Here vir ons heerlik wees… Want die Here is ons Regter, die Here is ons Aanvoerder, die Here is ons Koning” (Jes. 33:20-22). “Nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang… Jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog. Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en dié nasies sal sekerlik verwoes word… Die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel… Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie – van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof” (Jes. 60:3, 11-12, 14, 18).

Omdat Jerusalem in die vrederyk ná die wederkoms ‘n seën vir die hele aarde sal wees, moet ons nou al in afwagting op daardie tyd saam met Jesaja uitroep: “Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos ‘n glans en sy heil soos ‘n fakkel wat brand” (Jes. 62:1). In hierdie donker dae van aanvegtinge teen Jerusalem as die stad van die Groot Koning, moet ons die Here ook voortdurend aan sy beloftes herinner. Hy self sê dat ons hierby betrokke moet raak:

“O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7).

Stryd om die Beheer oor Jerusalem

Die groot eindtydse stryd om die beheer oor Jerusalem het begin. By hierdie verdiepende stryd is nie net Israel en die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) van Jasser Arafat betrokke nie, maar ál die Arabiese lande in die Midde-Ooste asook Moslems in verskeie ander lande, insluitende Suid-Afrika. Uiteindelik gaan alle nasies van die wêreld by die stryd teen Israel ingetrek word.

Omdat die vyande van Israel hulleself in ‘n direkte konfrontasie met die God van die Bybel begewe deur sý bepalings oor Israel en die stad Jerusalem in die Bybel te ignoreer, wag daar vir hulle ‘n groot beskaming en neerlaag in hierdie stryd. Hulle sal toegelaat word om teen Jerusalem op te trek, maar dáár sal die Here self met hulle in die gerig tree:

“Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming… In dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word” (Sag. 12:2-3).

Wanneer die nasies se leërs teen Jerusalem optrek, sal die Here se toorn oor hulle uitgestort word omdat hulle Israel sal probeer uitwis met die doel om sy land aan sy vyande te gee wat onregmatiglik daarop aanspraak maak. Hulle sal ‘n duur prys hiervoor betaal:

“Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).

Die land Israel en die stad Jerusalem is deur die Here aan die volk Israel gegee, en nie aan die Palestyne nie (Ps. 105:9-11; Sag. 12:10). Die land se naam is derhalwe nie Palestina, wat die land van die Filistyne is nie, en Jerusalem ook nie ‘n Moslemstad, Al Quds, nie!

Een van die sterkste krete in die mobilisering van soldate vir die Moslem jihad (heilige oorlog) deur die eeue heen was Al Quds – Jerusalem! Hulle beskou dit as húlle stad. Ten spyte van die Israeli-PBO vredesakkoord is dit vandag nog steeds een van die Moslems se belangrikste doelwitte om Jerusalem te verower en te beheer.

Valse vrede

Die PBO, soos die ander Moslemlande, stel nie regtig in vrede met ongelowiges (nie-Moslems) belang nie. Vir hulle is ‘n vredesooreenkoms ‘n taktiese skuif om tyd te wen om vir die volgende militêre aanslag voor te berei. In sy boek The great deception – Philistine (1995:100-101) sê Ramon Bennett die volgende oor die valse vredesooreenkomste wat die Moslems met hulle vyande sluit:

“Dit was Mohammed self wat vir Islam die strategie geskep het van ‘n vredesluiting met hul vyande ten einde hulle op ‘n later, meer geleë tyd, militêr aan te val. In 628 het Mohammed ‘n vredesooreenkoms met die Kuraish-stam in Mekka gesluit, in terme waarvan sy Moslem-volgelinge die reg gekry het om by die Kaäba in Mekka te aanbid. Twee jaar later, toe hy meer volgelinge gehad en aansienlik sterker was, het hy die ooreenkoms verbreek, die Kuraish stam aangeval en al die manlike lede daarvan om die lewe gebring. “Die ooreenkoms tussen Mohammed en die ‘ongelowiges’ van Mekka is as die Vredesooreenkoms van Hudaibija bekend. Dit het in die Islamitiese wet ‘n model vir alle ooreenkomste met nie-Moslems geword. Dié vrede is nooit permanent nie en moet nie langer as 10 jaar duur nie, met die moontlikheid van verlenging vir ‘n verdere tien jaar – niks meer nie. Islam mag nie sy oorlog teen ongelowiges vir langer as dié tydperk opskort nie. “‘n Vredesooreenkoms is deel van Islam te langtermyn oorlogsbeleid, en as sodanig ‘n deel van hulle doelwit om die hele wêreld aan Allah se gesag te onderwerp. Volgens Islamitiese regshandleidings mag ‘n oorlog onderbreek word, wanneer nodig, deur ‘n wapenstilstand van beperkte duur. ‘n Oorlog mag egter nie deur ‘n vredesluiting beëindig word nie – net deur ‘n oorwinning. “Wanneer die vyand té sterk is, soos Israel homself al by herhaling bewys het, mag ‘n tydelike vredesooreenkoms gesluit word. Die vyand sien dit as vrede, maar Arafat en al die Arabiere sien vrede as ‘n swakheid wat uitgebuit kan word. Die Israeli-PBO vredesakkoord is dus net ‘n taktiese skuif in ‘n breër militêre strategie.”

Arafat het sy vrede met Israel al uitdruklik met Mohammed se valse vredesluiting vergelyk. Terwyl hy ooreenkomste met Israel sluit, verag hy hulle in sy hart en gaan onverpoosd met voorbereidings vir ‘n hervatting van die gewapende stryd voort. Dié benadering word ook in die konstitusie van die PBO uiteengesit.

Die ‘onheilige’ oorlog

Dit is duidelik dat die Palestyne se hele bestaan op haat teen Israel gebou is. Kinders word van jongs af deur hierdie revolusionêre gees beset. In ‘n wyer verband geld dit ook vir al die ander Arabiese Moslemstate. Dit is by hulle ‘n ‘heilige’ missie om Israel van die aardbodem af te verdelg en die koepels van Allah se tempels vir ewig van die tempelberg af oor Jerusalem te laat uittroon. In hierdie ‘heilige’ oorlog (jihad) span hulle ten diepste hulle kragte teen die God van Israel saam om sý heiligdomme vir hulle in besit te neem:

“o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God! Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes. Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ‘n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Amalek, Filistea saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit… [Hulle] sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem! My God, maak hulle soos strooi, soos stoppels voor die wind. Soos vuur wat ‘n bos verbrand” (Ps. 83).

Verblind deur ‘n fanatieke haat vir Jode én Christene sal die Palestyne voortgaan om hulle eie ondergang in ‘n konfrontasie met Israel te bespoedig. Hulle moorde, terreurdade, sabotasieveldtog, uittartende houding en voortgesette provokasie sal waarskynlik in die nabye toekoms daartoe lei dat Israel hulle sal aanval en ‘n groot slagting onder hulle aanrig.

Bewus van die feit dat hulle alleen glad nie teen Israel opgewasse is nie, sal die PBO ‘n komplot met sy Arabiese en ander Moslembondgenote sluit om Israel te probeer verdelg. Hierin sal hulle volgens Eségiël 38 en 39 ook die steun van Rusland verkry. Die huidige stryd in Israel is duidelik ‘n voorloper vir die groot Russies-Arabiese inval in Israel.

Bid om die vrede van Jerusalem

Moet dus nie Jerusalem as ‘n plek van godsopenbaring vergeet nie – nie sy verlede nie, en ook nie sy wonderlike toekoms nie! Dawid sê in Psalm 122:6: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” Die stryd om Jerusalem is ‘n stryd tussen lig en duisternis. Die Here Jesus kom terug na Jerusalem en Hy gaan die aarde hiervandaan regeer. Dit is waarom die magte van die duisternis hierdie stad van Israel wil vervreem, oorneem en daarvan ‘n heidense stad maak.

Kom ons bid vir die vrede van Jerusalem. Laat ons saam met die ballinge van Israel sê toe hulle by die riviere van Babel was en die heiligdomme van die Here in puin gelê het: “As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie” (Ps. 137:5-6).

Omdat die Here besluit het om sy Naam in Jerusalem te vestig, het hierdie stad ‘n ewige toekoms. Nie net sal dit in die vrederyk die hoofstad van die wêreld wees nie, maar op die nuwe aarde sal ons in die nuwe Jerusalem woon wat die Here Jesus op die oomblik vir ons voorberei. Hierdie wonderstad met sy goue strate en pêrelpoorte sal uit die hemel op die nuwe aarde neerdaal. Daar sal die bruid vir ewig saam met die Lam woon. Johannes sê in Openbaring 21:

“Ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees… En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Op. 21:2-4; vgl. Jes. 25:8).

Maak seker dat u deur die wedergeboorte ‘n lid van die bruidsgemeente is, sodat u in die ewige heerlikheid van God se koninkryk kan deel. Dit wat deur die toedoen van die Here in die aardse Jerusalem gebeur het, moet in die hele wêreld verkondig word omdat dit die poort na die hemelse Jerusalem vir alle mense open.

 

9. Die Russies-Arabiese Inval in Israel

Die Here het vir Eségiël opdrag gegee om oor ‘n groot steeksoorlog te profeteer wat in die eindtyd [in die laaste dae] in Israel sal uitbreek:

"Rig jou aangesig teen Gog, in die land Magog, die vors van Ros, Meseg en Tubal, en profeteer teen hom en sê: So spreek die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog, vors van Ros, Meseg en Tubal! En Ek sal jou weglok en hake in jou kakebene sit en jou laat uittrek en jou hele leër... Perse, Kusiete en Puteërs... Gomer en al sy leërs, die huis van Togarma in die uithoeke van die Noorde, en al sy leërs – baie volke saam met jou... Ná baie dae sal jy bevel ontvang; aan die einde van die jare sal jy ‘n land intrek wat van die swaard weer reggekom het, wat versamel is uit baie volke, op die berge van Israel wat gedurigdeur as puinhoop daar gelê het... In dié dag sal daar gedagtes in jou hart opkom, en jy sal ‘n listige plan beraam en sê: Ek sal optrek teen die land wat ooplê, ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon; wat almal woon sonder muur en geen grendel of poorte het nie... en jy sal optrek teen my volk Israel soos ‘n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees" (Eseg. 38:1-11, 16). "En Ek sal jou weglok en jou lei en jou laat optrek uit die agterhoeke van die Noorde en jou laat kom op die berge van Israel. Maar Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val. Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is; aan die roofvoëls van allerhande vere en aan die wilde diere van die veld het Ek jou as voedsel gegee. Op die oop veld sal jy val; want Ek het dit gesê, spreek die Here Here" (Eseg. 39:2-5).

Gog is Rusland

Die identiteit van Gog word uit drie verskillende oogpunte baie duidelik as die moderne Rusland bevestig:

1. Die land Magog

Volgens die register van nasies in Génesis 10 was Magog ‘n kleinseun van Noag (v. 1-2). Die afstammelinge van Magog het ten noorde van die Kaukasusgebergte in die huidige Rusland gewoon, en is die belangrikste antieke volk waaruit die moderne Russe afgestam het.

2. Die vors van Ros, Meseg en Tubal

Ros, of Rus, was een van die stamme wat van Magog afgestam het. Hulle het lank in die omgewing van die Wolga gewoon. Meseg en Tubal was jonger broers van Magog (Gen. 10:2) en het ook in die gebied van die huidige Rusland gevestig. Meseg was die stigter van die Moski, en van dié naamwoordstam is ‘Moskou’ afgelei. Tubal is die stamvader van die Tibereni wat langs die Swart See gewoon het.

3. Die agterhoeke van die Noorde

Moskou, die hoofstad van Rusland, is reg noord van Jerusalem in die agterhoeke van die Noorde geleë. Onmiddellik noord van Israel was Assirië, die land van die koning van die Noorde. Rusland word egter onderskei as geleë in die agterhoeke van die Noorde.

Eindtydse Rusland

Die profesie in Eségiël 38 en 39 het duidelik op die laaste dae betrekking, en is dus nie in Ou Testamentiese tye vervul nie. Dit verwys uitdruklik na ‘n aanval op ‘n herstelde volk Israel, wie se land gedurigdeur as ‘n puinhoop gelê het (Eseg. 38:8).

Die Sowjet-Unie het ná Wêreldoorlog II militêr in ‘n sterk moondheid ontwikkel wat uitgesproke vyandig teenoor Israel was. Sedert Israel se herstel in 1948 is die Arabiese lande telkens van groot arsenale Russiese wapens (AK 47’s), pantservoertuie, misiele en vegvliegtuie voorsien om ‘n uitwissingsoorlog teen die volk Israel te voer. Al hierdie oorloë was voorlopers vir die geprofeteerde Russies-Arabiese inval in Israel.

Russiese bondgenote

Eségiël noem die volgende bondgenote wat saam met Rusland ‘n inval in Israel sal doen:

1. Persië

Die naam van Persië is in 1935 na Iran verander. Ná die Islamitiese revolusie van die Ajatolla Khomeini het hierdie land uitgesproke anti-Israels geraak en baie sterk in Rusland se magsfeer beland. In samewerking met Russiese wetenskaplikes het Iran onlangs sy Shihab-3 ballistiese misiele ontwikkel wat teikens in Israel kan tref. Binnekort sal Iran oor kernplofkoppe vir sy misiele beskik. Iran en Irak het ook nou vrede gesluit ter wille van hulle gemeenskaplike stryd teen Israel en sy magtige bondgenoot, Amerika.

2. Kus

Kus is die oorspronklike Hebreeuse benaming vir Ethiopië. Ná die val van Haile Selassie se bewind in 1974 het Ethiopië eers in ‘n kommunistiese diktatuur verander, en later in ‘n Islamitiese staat. Beide hierdie ideologieë het ‘n sterk anti-Joodse ingesteldheid tot gevolg.

3. Put

Put is die Hebreeuse naam vir Libië. Dié land is deur die militante kolonel Gaddafi tot ‘n sosialistiese republiek verklaar. Hy handhaaf noue bande met Rusland, en dit is sy verklaarde beleid om Israel te verdelg en sy grondgebied aan die Palestyne te oorhandig. Libië beskik oor ballistiese misiele wat van Noord-Korea aangekoop is, waarmee Israelse teikens uit Libië bestook kan word.

4. Togarma

Dit is ‘n verwysing na Turkye, ‘n land wat ‘n oorheersende Moslembevolking van omtrent 97% het. Turkye is nog net nominaal ‘n NAVO-bondgenoot en vriend van Israel. Ná die onlangse mislukte Camp David vredesberaad tussen Israel en die PBO, het Jasser Arafat Turkye besoek waar hy ongekwalifiseerde steun vir die stigting van ‘n Palestynse staat met Oos-Jerusalem as hoofstad gekry het. Israel kan nie meer vir voortgesette steun op Turkye reken nie, maar die PBO kan wél.

5. Gomer

Deur die naam Gomer word Duitsland as een van die bondgenote in die oorlog teen Israel geïdentifiseer. Daar is groeiende ekonomiese, politieke en selfs militêre bande tussen Duitsland en Rusland, aangesien Rusland deur die Duitse regering as ‘n belangrike faktor vir die toekomstige stabiliteit van Oos-Europa beskou word.  Goeie verhoudinge met olieproduserende Arabiese state sal ook vir dié lande bondgenote in hulle stryd teen Israel verkry. Vir Duitsland se ekonomiese ontwikkeling is dit ‘n baie belangrike strategiese oorweging om die voorgesette lewering van olie uit die Midde-Ooste te verseker. Waarskynlik sal hulle, soos baie ander lande, hulle vriendskap met Israel hiervoor opoffer.

Oorwinning én misleiding

Die uitslag van die Russies-Arabiese inval in Israel sal hoogs verrassend, onverwags en uiters dramaties wees. Die een oomblik sal Israel nog deur uitwissing in die gesig gestaar word terwyl die inval dreig om in ‘n wêreldoorlog te ontaard, dan sal die Here die invallende leërs op die berge van Israel verdelg. Daar sal selfs vuur uit die hemel neerdaal (Eseg. 39:4-6), terwyl ‘n groot aardbewing ook sal voorkom (Eseg. 38:19-23).

Dit sal Israel sewe maande neem om die lyke van hul vyande te begrawe, en hulle sal sewe jaar lank van die oorlogsbuit gebruik (Eseg. 39:9-12). Hulle sal hulle grootliks in in hierdie ingryping deur die Here verbly, omdat hulle van gewisse dood en nasionale ondergang gered is. Hulle blydskap sal geen perke ken nie.

Hierdie situasie sal waarskynlik deur Satan uitgebuit word om die ergste moontlike misleiding te doen in ‘n poging om die Antichris as wêreldmessias deur Israel, die Moslemlande én al die ander nasies aanvaar te kry. Die Antichris met sy bonatuurlike [duiwelse] magte sal die krediet vir die oorwinning opeis deur te beweer dat God hom na die aarde toe gestuur het om ‘n dreigende kernoorlog af te weer en sodoende die hele wêreld van ondergang en uitwissing te red. Israel en die nasies sal ‘n baie ernstige oordeelsfout begaan deur hierdie man as die beloofde Messias te aanvaar en ‘n verbond met hom te sluit (Dan. 9:27; Joh. 5:43; Op. 13:3-4).

Die Antichris kom beslis en sal homself later ook in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar. Indien hy tydens die Russies-Arabiese inval in Israel geopenbaar word, dan beteken dit dat die wegraping van die kerk ook in hierdie tyd moet plaasvind. Hulle is die teëhouer teen die openbaring van die Antichris.

 

10. Profetiese Implikasies van die Verwerping van Jesus

Wanneer Johannes sê: “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19: 10), dan bedoel hy daarmee dat alles wat in die toekoms met mense gaan gebeur, van hulle verhouding met die Here Jesus afhang. Hulle sal óf gered en geseën word óf weens hulle onbekeerlike harte gestraf en uiteindelik tot die ewige poel van vuur veroordeel word. ‘n Belangrike gevallestudie om hierdie stelling te bewys, is die lotgevalle van die volk Israel.

Die belangrikste rede vir Israel se aanhoudende probleme en benoudheid is nie ekstern nie, maar intern – naamlik die volk se voortgesette verwerping van Jesus as Messias.

Hoewel evangeliese Christene Israel moet seën en standpunt teen die internasionale veldtog van Jodehaat inneem, is dit ons eerste prioriteit om Israel weer aan hulle Messias voor te stel wat al geslagte lank deur die volk verwerp word. Indien ons hierdie allerbelangrike opdrag nalaat, sal Israel se probleme erger word en blywende vrede in die gebied ‘n ontwykende ideaal bly.

Die moderne modewoord van “vrede” word deur baie mense gebruik, maar die betekenis daarvan word meesal tot die humanistiese idee van vriendskap, harmonie en politieke en godsdienstige verdraagsaamheid beperk. Uit ‘n Bybelse oogpunt is vrede egter ‘n veel meer verhewe begrip – dit is ‘n Persoon, Jesus Christus: “Hy is ons vrede” (Ef. 2:14). Sy vrede is totaal verskillend van dié van die wêreld, daarom het Hy gesê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh. 14:27).

Hoe het Israel op die vredesaanbod gereageer wat Jesus tydens sy eerste koms aan hulle gemaak het, en wat was die gevolge daarvan?

Oorloë en verstrooiing in die eerste eeu

Tydens sy eerste koms het Jesus Homself as Messias aan Israel gebied. As gevolg van hulle geestelike blindheid het Israel se volksleiers egter onbeskryflike benoudheid oor hulle én hulle volgelinge gebring toe hulle die Prins van Vrede verwerp het.

Dit sou ongegrond wees om die eerste eeuse oorloë en veroweringstogte van die Romeinse Ryk (waarin daar meer as ‘n miljoen Jode dood is), asook Israel se internasionale verstrooiing daarna, net aan die gewelddadigheid en magsug van die goddelose Romeine toe te skryf. Is húlle alleen vir al Israel se ellendes verantwoordelik? Sekerlik nie! Wat is dan die belangrikste oorsaak vir al die bloedvergieting en menslike lyding?

Jesus het aan Jerusalem, wat die kern van die ongelowige Joodse volk was, gesê:

“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak… en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37-38). “Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp  en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:43-44). “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is… want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20, 23-24).

Uit hierdie skrifgedeeltes is dit duidelik dat Israel se verwerping van hulle Messias vir al hulle bitter ondervindings verantwoordelik is – veel meer as die dade van hulle barbaarse vyande. In tye toe hulle geestelik sterk was, het die Here hulle bewaar. Salomo het gesê: “As die Here behae het in die weë van ‘n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou” (Spr. 16:7).

Die geestelike afvalligheid van Israel is ook die hoofrede vir hulle voortgesette lyding tydens die lang jare van hulle internasionale verstrooiing:

“En die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde, en daar sal jy ander gode dien… En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie… maar die Here sal jou daar ‘n bewende hart gee en smagtende oë en ‘n kwynende siel” (Deut. 28:64-65).

Waarom het Israel as volk só ‘n lang geskiedenis van lyding gehad? Omdat hulle God se wette, sy profete en uiteindelik ook sy Seun, verwerp het. Toe die Romeinse goewerneur, Pilatus, vir Jesus wou vryspreek, het die Jode op sy kruisiging aangedring en gesê: “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!” (Matt. 27:25).

Met die uitsondering van ‘n relatief klein groep Messiaanse Jode, het die opkomende geslagte die dade van hule voorvaders goedgekeur en dwarsdeur hul verstrooiing, tot in die huidige herstelfase van Israel, met die nasionale verwerping van Jesus voortgegaan. Wanneer Jesus weer kom, sal “elke oog Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het” (Op. 1:7) – dit is die eindtydse geslag van Jode wat Hom steeds verwerp.

Herstel in ongeloof

Het God sy verbond met Israel verbreek toe hulle uit hul land verstrooi is? Beslis nie! Sy verbond met hulle is onvernietigbaar (Lev. 26:44-45). Deur die eeue heen was daar altyd ‘n gelowige minderheid wat die vlam van die ware Israel van God brandend gehou het. Hulle getal sal aansienlik aangroei nadat die ongelowige meerderheid na hul land teruggekeer en sommiges van hulle ook geestelik herleef het:

“Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here Here: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het. En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al julle onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig” (Eseg. 36:22-25).

Die Bybel leer dat die Joodse volk wat in ongeloof na hul land herstel is, eers gered sal word nadat hulle aan groot benoudheid en beproewings onderwerp is:

“Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt… en julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (Eseg. 22: 19-22).

Die tyd van benoudheid vir Jakob

Sedert Israel se herstel na hulle land in 1948, het die antagonisme van die ongelowige meerderheid teenoor Jesus en die Messiaanse Jode wat Hom dien, verdiep. Hoewel Israel hulle oorloë beslissend gewen het, het die haat en militêre vermoë van hulle vyande gaandeweg toegeneem – sodanig dat Israel nou op die kort termyn die “tyd van benoudheid vir Jakob” in die gesig staar (Jer. 30:7). Die Here sal die komende benoudheid gebruik om ‘n gelowige oorblyfsel van die volk te red.

Hosea sê die volgende oor die eerste en tweede koms van die Messias, asook Israel se uiteindelike redding deur Hom (verklarende notas is tussen hakies):

“Want Ek [die Messias] is soos ‘n leeu vir Efraim, en soos ‘n jong leeu vir die huis van Juda; Ek, Ek verskeur en gaan heen [die hemelvaart van Jesus nadat Hy die vernietiging van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van die Jode aangekondig het]… Dan gaan Ek heen, Ek keer na My woonplek [die hemel] terug, totdat hulle [die volk Israel] skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood [in die groot verdrukking] sal hulle My soek. Kom en laat ons terugkeer tot die Here; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae [van ‘n duisend jaar elk] lewend maak, op die derde dag [in die derde millennium ná sy eerste koms] ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe” (Hos. 5:14 – 6:2).

Dit is uit hierdie verse duidelik dat Israel as ‘n volk die Here eers “in hulle nood” sal soek. Sagaria noem die skokkende dodetal van die komende groot verdrukking waartydens ‘n oorblyfsel van Israel gered sal word:

“En in die ganse land, spreek die Here – twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 13:8-9).

Die Here Jesus sê die volgende oor hierdie verskriklike tyd wanneer die Antichris, nadat hy homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar het, sal poog om Israel én alle ander mense wat weier om hom te aanbid, uit te wis:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… moet dié wat in Judea is na die berge vlug… dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-16, 21-22).

Die tempel eerder as Jesus

Die huidige geslag Jode soek, soos hul voorvaders, hulle heil in die herbouing van die tempel eerder as in die aanvaarding van die eenmalige offer van Jesus aan die kruis vir hulle sonde. Die Tempel-instituut in Jerusalem tref uitgebreide voorbereidings hiervoor. Volgens Numeri 19 is een van die benodighede ‘n rooi vers (sonder enige hare van ‘n ander kleur) wat geslag en verbrand moet word sodat die as daarvan vir die bereiding van reinigingswater gebruik kan word. Op 5 April vanjaar is die Tempel-instituut in kennis gestel dat só ‘n vers op ‘n plaas in Israel gebore is. Twee rabbi’s het bevind dat die vers aan al die vereistes voldoen.

Groot geesdrif heers tans in Israel vir die herbouing van die tempel en die hervatting van die offerdiens. Hierdie tempel sal egter in die teken van die verdere verloëning van Jesus staan, en die Antichris sal homself daarin tot God verklaar (Dan. 9:27; 2 Thess. 2:4).

Bid vir die vrede van Jerusalem

Hoe moet ons in die lig van Bybelse profesieë vir die vrede van Jerusalem bid? (Ps. 122:6; Jes. 62:6-7). Ons moet ‘n Nuwe Testamentiese gebed vir die vrede van Jerusalem bid, daarom moet dit ‘n Messiaanse gebed wees. Daar is ‘n baie spesiale verband tussen Jesus en Jerusalem. Hy is die Messias-Koning van Jerusalem wat in die millennium vanaf die herstelde troon van Dawid uit hierdie eeue oue stad oor sy koninkryk sal regeer (Hand. 15:16-17; Amos 9:11-12; Jes. 16:5).

Voor daardie wonderlike tyd sal Jerusalem egter die toneel van vervolging, swaarkry en vele aanslae wees. Jesus het nie alleen gesê dat Jerusalem afgebreek, verlate en tot in die eindtyd deur die nasies vertrap sou word nie, maar ook dat Israel deur die groot verdrukking sal moet gaan voordat hulle gered sal word. Wat sal dit dus help om te bid dat Jerusalem se oorwegend ongeredde inwoners van aanvalle deur hulle vyande bewaar sal word, as dít juis die metode is wat deur God bepaal is om hulle te louter en hulle geestelike verlossing te bespoedig?

Die Here sal nie alleen toelaat dat die herstelde Jerusalem deur sy vyande aangeval word nie, maar ook die inname en gedeeltelike verwoesting van die stad sodat die inwoners ernstig om hulp en uitredding tot Hom sal roep. Hy het gesê:

“Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap, maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie” (Sag. 14:2).

Wanneer ons vir die vrede van Jerusalem bid, moet ons ernstig bid dat individuele Jode vir Jesus as Messias-Koning, Verlosser en Vredevors aanneem. Ook moet ons bid dat baie Jode in die komende groot verdrukking gered sal word wanneer Jerusalem en die land Israel die toneel van groot oorloë sal wees. Bowe-al moet ons volhardend vir die wederkoms van die Here Jesus bid, omdat Hy die enigste hoop vir Israel én die nasies is. Daar sal geen ware en blywende vrede in Israel én die wêreld wees voordat die Vredevors terugkom nie.

Foutiewe profetiese sienings

Baie Christene het foutiewe profetiese sienings en tree in die lig daarvan verkeerd op:

·         Hulle aanvaar Israel in hulle ongeredde toestand as die uitverkore volk van God, en skryf al die seëninge van die millennium net so aan die huidige geslag toe.

·         Hulle ontken die behoefte aan die vuur van God se loutering vir die volk, en beweer dat Israel én die hele wêreld nie op die groot verdrukking afstuur nie.

·         Hulle verwag ‘n herlewing van (misleidende) tekens en wonders wat die volk in die koninkryk van God sal intrek, en sodoende die millennium sonder ‘n voorafgaande tyd van verdrukking sal laat begin.

·         Hulle laat ná om Israel en die nasies teen die komende valse messias te waarsku wat hulle sal mislei en ‘n verbond met hulle sal sluit (Dan. 9:27; Joh. 5:43).

·         Hulle skram daarvan weg om uitdruklik vir Jesus Christus as die Verlosser van Israel en die nasies te verkondig, omdat hulle bang is dat dit vir die Jode én baie ander mense aanstoot sal gee.

·         Hulle huldig die mening (én bid ook daarvoor) dat Jerusalem sonder Jesus vrede kan hê. Hulle verbind hulleself nie uitdruklik daaraan om Jesus in die stad as Messias te verkondig nie.

Daar is verskeie Christelike bedienings binne én buite Israel wat hulleself aan sommige of al hierdie verdraaide sienings en die gevolge daarvan skuldig maak. Die meeste van hulle lewer slegs lippediens aan die feit dat alle Jode én nie-Jode slegs deur Jesus gered kan word, maar in hulle aksies en uitreikings word bitter min aandag aan Joodse evangelisasie en die redding van siele gegee. Selfs in gebedsversoeke word hierdie onderwerp maklik uitgelaat. Ondersteuners word net gevra om vir die veiligheid van die streek te bid, vir die beperking of beëindiging van Jasser Arafat en die PBO se terreur-optrede, vrede in die Midde-Ooste, die afname in Jodehaat, die terugkeer van meer Jode na hulle land, huise en werk vir Joodse immigrante, asook ekonomiese voorspoed vir die land en reën in droogtetye.

Ons moet egter die langtermyn geestelike behoeftes van Israel op die hart dra. Ook moet ons in die lig van duidelike Bybelse profesieë vir Israel voorberei op die probleme wat aan die kom is. Jasser Arafat, Saddam Hoesein, Osama bin Laden en al die wreedhede wat hulle pleeg, is verbygaande verskynsels. ‘n Veel boser en meer sinistere persoon sal spoedig op die toneel verskyn. Die Bybel noem hom die Antichris, die mens van sonde, die seun van die verderf en ook die ongeregtige (1 Joh. 2:18; 2 Thess. 2:3, 8).

Ons behoort óf aan die ware Messias en sal God se oordele oor ‘n sondige wêreld vryspring (Luk. 21:36), óf ons sal spoedig aan die Antichris en sy skrikbewind uitgelewer word. Dit vereis ‘n basiese keuse deur elke mens vír of téén Jesus Christus.

Die verloëning van Jesus

Die belangrikste probleem van Israel en baie van die Christelike bedienings wat onder hulle werk, is die verloëning van Jesus as Messias en enigste Verlosser van die wêreld. Hoewel baie van laasgenoemde organisasies Hom nie uitdruklik verloën nie, doen hulle dit nogtans implisiet deur te swyg wanneer hulle openlik en met groot oortuiging van Hom moet getuig (Hand. 1:8).

Bedienings wat nie duidelik aan Israel die boodskap van Jesus se Messiasskap verkondig nie, is nie regtig besig om hulle te help nie. Hoe sal die ortodokse en ongelowige Jode in hulle komende benoudheid in staat wees om die valse messias te identifiseer, te verwerp en hulle toevlug tot die ware Messias te neem indien hulle nie vooraf deeglik oor albei ingelig is nie?

Die hele wêreld is besig om die populêre tendens van die verloëning van Jesus en sy unieke weg van verlossing te volg. Hulle vervals die Persoon van Christus deur Hom tot die vlak van die nie-Christelike gelowe se messiasse te verlaag. Hulle aanvaar intergeloofs- en sekulêre grondwette, faseer staatsondersteunde Christelike onderwys uit, en bou aan ‘n nuwe wêreldorde waarin Jesus Christus doelbewus ter wille van eenheid tussen alle nasies, ideologieë en gelowe verloën word.

Omdat net die Here Jesus ons vrede is, is daar geen werklike en standhoudende vrede buite Hom nie. Alle mensgemaakte vredesplanne is tot absolute mislukking gedoem: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle” (1 Thess. 5:3).

Die komende, wêreldwye benoudheid van nasies sal die direkte gevolg van die instelling van ‘n christuslose nuwe wêreldorde wees. Dit is waarom Jesus Christus die nasies sal oordeel en aan die einde daarvan terugkom om orde te skep en geregtigheid te laat seëvier.

Wanneer die eerste onheilspellende tekens van die naderende groot verdrukking sigbaar word, sal die ware gelowiges die komende rampe ontvlug (Luk. 21:25-36). Diegene wat hulle hoop in die valse vredesprogramme van die humanistiese nuwe wêreldorde gestel het, “sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3).

Wanneer die oordele van God oor hierdie Christus-verwerpende wêreld kom, sal dit uiteindelik vir mense duidelik word dat die toorn van die Lam – vir wie hulle verloën het – oor hulle uitgestort is. Hulle sal dan vir die berge en rotse sê: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

In die dae wanneer mense die bittere gevolge van die verwerping en verloëning van Christus as die lig en lewe van die wêreld ervaar, sal die dood vir hulle verkiesliker wees as om te kyk in sy oë wat soos vuurvlamme is (Op. 1:14). Skielike verderf sal oor Jesus se vyande toeslaan terwyl hulle van sy aangesig af probeer wegvlug:

“En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond” (Sag. 14:12).

‘n Persoonlike ontmoeting met Christus

Alle mense op aarde – dié wat in Christus glo én almal wat Hom verloën het – gaan beslis ‘n persoonlike ontmoeting met Hom hê. God het aan Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, “sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Fil. 2:9-11).

Die ware gelowiges sal voor die regterstoel van Christus verskyn om rekenskap van hulle lewens te gee (Rom. 14:10-12), terwyl die toorn van die Lam oor die ongelowiges uitgestort sal word. Aan die einde van die verdrukking, wanneer Christus terugkom aarde toe, sal die oorblyfsel van Israel en die nasies met bittere selfverwyt oor Hom rou bedryf (Matt. 24:29-30).

Waarom sal hulle oor Hom rou bedryf? Hulle sal besef dat hulle benoudheid en verdrukking die direkte gevolg van die verloëning van die Heilige van Israel is, wat alleen in staat is om hulle siele te red. Wanneer hulle Hom in mag en heerlikheid sien kom, sal hulle met sondebelydenis voor Hom neerval en Hom om genade smeek. In ‘n Messiaanse profesie sê die Here die volgende oor Israel se nasionale bekering:

“Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem” (Sag. 12:10-11).

Israel moet nou voorgestel word aan die Een wat deur hulle vaders deurboor is. Diegene wat nie nou hierdie boodskap wil aanvaar nie, moet nogtans weet waar om hulle toevlug te neem wanneer die donker wolke van God se oordele in die verskriklike dag van die Here oor hulle toesak (Jes. 13:9-13; Op. 6:12-17). Dieselfde boodskap moet ook aan hulle baie vyande in die Midde-Ooste verkondig word, asook aan alle mense op aarde.

Moenie die enigste Een wat jou siel kan red, asook die siele van alle verlore sondaars, verloën nie. Slegs Hy kan vrede in ‘n oorloggeteisterde wêreld bring, die vyandelike magte verdelg wat in Israel ontplooi sal word (Op. 19:20-21), en die duiwel wat die nasies verlei, laat bind (Op. 20:1-3). Ná sy wederkoms sal Jerusalem tot die hoofstad van die wêreld verhef word:

In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie (Jer. 3:17; kyk ook Jes. 2:2-4 en Sag. 8:21-23).

Jesus Christus sal die Koning van die konings en die Heer van die here wees! (Op. 11:15; 19: 16). Hy moet egter ook nou vir al sy wonderlike attribute geëer word:

·        Jesus Christus is nie bestem om slegs in die komende millennium die Koning van die Jode én van die hele wêreld te wees wat vanaf die troon van Dawid uit Jerusalem regeer nie. Hy moet nou as Verlosser en Koning deur alle mense aanvaar word! Hy moet nou deur alle nasies as die hoeksteen van hul grondwette erken en geëer word! Hy het uitdruklik gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Matt. 28:18). Hy is die Koning van die konings, en geen politieke struktuur of ideologie is sinvol of volledig sonder die uitdruklike, formele en toegewyde erkenning van die Drie-enige God se oppergesag nie. Die dreigende oordele oor die nasies is ‘n wesenlike en direkte gevolg van die verloëning van Jesus Christus se soewereiniteit.

·        Die geregtigheid en wysheid van God, soos deur Christus in die Bybel geopenbaar, is die enigste basis vir morele norme, menseregte, regstelsels en opvoedkundige programme. Die opvallende afwesigheid van ‘n Bybelse moraliteit, respek vir lewe en eiendom, ‘n Bybels gebaseerde regstelsel met behoorlike strawwe vir misdadigers, asook Christelike onderwys, is die rede vir al die immoraliteit, dubbele standaarde, wanorde en anargie in die wêreld.

·        Slegs Jesus Christus kan die beeld van God in mense, wat deur die sondeval vernietig is, herskep. Sonder die vergifnis van sonde en wedergeboorte in ‘n nuwe lewe van Christusgelykvormigheid, sal ons nooit die oordele van God oor die sondaars kan ontvlug nie –  hoe hard ons ook al probeer. Kom na Hom toe wat magtig is om te verlos (Luk. 19:10; Hand. 4:12).

Die Bybel sê: “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Bybelse profesieë kan slegs verstaan word in die lig van mense se verhouding teenoor die Here Jesus – hulle is óf vír Hom, óf téén Hom, en word dienooreenkomstig deur die Here hanteer. Diegene wat in Christus is, “kom nie in die oordeel nie” (Joh. 5: 24), terwyl die oordele van God oor almal uitgestort sal word wat Hom verwerp.

Jesus Christus nooi steeds alle mense in Israel en onder die nasies uit om sy dissipels te word en sodoende uit die dood na die lewe oor te gaan (Joh. 5:24). Hy is óf jou Redder wat sy heerlikheid aan jou sal openbaar, óf jou Regter wat jou weens jou sonde tot die ewige poel van vuur sal veroordeel.

Dit is belangrik dat Israel en die nasies sal besef dat Jesus Christus hulle enigste Vredevors en waarborg vir ‘n hoopvolle toekoms in hierdie deurmekaar wêreld is. Jesaja het gesê dat Israel se Messias sal wees “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jes. 9:6).

Ander nasies in dieselfde bootjie

Die voorgaande studie oor die gevolge van Israel se ongehoorsaamheid en ontrouheid aan die Here kan net so ook op die goddelose nasies toegepas word. Nie een van hulle is enigsins 'n toonbeeld van godvresendheid en die handhawing van Christelike standaarde nie. Dit is waarom die Here se oordele oor die hele wêreld rus. Mense moet eerder hulle rebellie teen God staak en die gevolge van hulle roekelose lewenswandel nóú bereken terwyl daar nog tyd is om met God versoen te word. Weldra sal die oordele begin.

·        "Die konings van die aarde staan gereed, die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! ... U sal hulle verpletter met 'n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos 'n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde!" (Ps. 2:2-3, 9-10).

·        "Die Here… sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en 'n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees" (Ps. 11:5-6).

·        "Ek sal al die nasies versamel en hulle na die dal van Josafat laat aftrek, om daar met hulle 'n strafgerig te hou" (Joël 3:2).

·        Die konings van die aarde sal deur verleidende geeste van Satan "versamel word vir die oorlog van daardie groot dag van die almagte God…" Hulle sal hulself versamel "op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon" (Op. 16: 13-14, 16).

·        "Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insettinge geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur 'n gloed verteer en bly daar min mense oor" (Jes. 24:5-6).

·        Daar kom 'n "uur van beproewing oor die hele wêreld om die bewoners van die aarde op die proef te stel" (Op. 3:10).

·        "Want daar sal groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie… en dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal  die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid" (Matt. 24:21, 29-30).

·        "En die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir toorn van die Lam, want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" (Op. 6:15-17).

Op die laaste dag van die groot verdrukking sal Christus kom as die ruiter op 'n wit perd, en die leërs van die hemel sal hom volg op wit perde. Sy oë sal soos 'n vuurvlam wees en Hy sal met 'n kleed bekleed wees wat in bloed gedoop is. Hy sal die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige, trap. Uit sy mond sal daar 'n skerp swaard gaan om die nasies mee te slaan. Die leërs van die nasies sal by Armagéddon gedood word met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls sal versadig word van hulle vlees (Op. 19:11-21).

 

11. Die Groot Betekenis van Israel

Waarom speel die Midde-Ooste so ‘n groot rol in eindtydse wêreldgebeure? Dit is baie belangrik om te begryp dat die grootste enkele oorsaak vir die spanning in die Midde-Ooste én in die hele wêreld, die herstel van die volk Israel na hulle eie land is. Die vraag ontstaan egter by baie mense: Hoe kan só ‘n klein volkie in só ‘n klein landjie die hele wêreld in beroering bring? Die antwoord is eenvoudig: omdat dit God se volk is wat Hy uit die heidendom geroep het, en wat Hy in ‘n toekomstige bedeling as die hoof van al die nasies gaan aanstel. “Want só sê die Here: Jubel oor Jakob van vreugde, en juig oor die hoof van die nasies; laat dit hoor, sing lof en sê: o Here, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel! Kyk, Ek bring hulle aan uit die Noordland en sal hulle bymekaar laat kom uit die agterhoeke van die aarde” (Jer. 31:7-8). Dit is dus die Here self wat hierdie volk in die eindtyd met ‘n doel na hulle eie land toe terugbring. Hierdie doel sal egter eers verwesenlik word wanneer Israel met hulle Messias, Jesus Christus, versoen is.

Israel is só belangrik dat hulle alle mense op aarde beïnvloed. Ons is óf ondersteuners van Israel wat ontvanklik is vir die geestelike seëninge wat die Here deur Israel aan die hele wêreld bied, óf ons is vyande van Israel op wie die oordele van die Here rus. Die Here het vir Abraham gesê, wat sy fisiese nageslag deur Isak en Jakob betref: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen 12:3). Uit die oogpunt van hierdie uitspraak is daar net twee groepe volke op aarde – dié wat Israel seën, erken en ondersteun, en dié wat Israel haat, verwerp en vervolg.

Waarom moet ons ondersteuners van Israel wees? Omdat die seën wat die Here deur Abraham aan die nasies beloof het, deur ‘n nasaat van hom uit die Joodse volk na die wêreld gekom het. Hierdie nasaat is die Messias, Jesus Christus, wat in die huis van Dawid uit die stam van Juda gebore is. Galásiërs 3:13-14 sê dat Christus ons aan die kruishout losgekoop het van die vloek wat deur die sonde op ons rus, “sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus.” Hierdie volk het dus vir die wêreld ‘n Verlosser gebring! Dit is egter nie al nie – God het ook sy Woord deur die bemiddeling van Israel aan ons gegee. Al die Bybelskrywers, behalwe Lukas, was Jode. Paulus sê in Romeine 3: “Wat is dan die voordeel van die Jood?… Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is” (Rom. 3:1-2).

Wanneer ons die Bybel opneem en lees, en ook die knie in gebed voor die Here Jesus buig, dan ontvang ons seëninge wat die Here deur Israel na ons toe gestuur het. Ons word touens in die Olyfboom, Israel, ingeënt. Toe Israel weens ongeloof nie die Messias aanvaar het nie, het die opdrag gekom dat die boodskap van sy reddende genade na alle nasies uitgedra moes word. Israel is dus selfs in hulle geestelik verblinde toestand ‘n seën vir ons deurdat ons nou die kans kry om die Messias wat hulle verwerp het, aan te neem. Paulus sê in Romeine:

“Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom… En as hulle val die rykdom van die wêreld is, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! … die verharding [het] ten dele oor Israel gekom totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:11-12, 25-26).

Ons is oneindig veel aan Israel verskuldig, deur wie die keur van God se seëninge tot die heidene gekom het. Nie alleen word ons geseën as ons Jesus en sy Woord aanvaar nie, maar ons moet ook vir Israel in hulle geestelik afvallige toestand seën deur hulle jaloers te maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakbob deur die Messias dien en liefhet.

Die ongeredde menigtes wie se sinne deur die god van hierdie wêreld verblind is, haat egter die volk Israel, hulle verwerp die Messias wat as Seun van die mens uit hierdie volk gebore is, en minag die Bybel as die Woord van die lewende God. Hulle is bewus daarvan dat daar ‘n sterk geestelike dimensie in hulle verhouding met Israel is, daarom verklaar hulle ‘n sogenaamde heilige, godsdienstig-gemotiveerde, oorlog teen israel. Hulle het die diep geestelike oortuiging dat die koninkryk waaraan Israel behoort, vyandig teenoor hulle eie geestelike koninkryk is, daarom wil hulle Israel van die aardbodem af verdelg, Jerusalem beset, hulle eie heiligdomme op die Tempelberg bou en die hele land Israel oorneem. Vir Israel word daar onder sulke mense geen bestaansreg gegun nie. In Psalm 83:5 sê dié vyande: “Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.”

Mobilisasie vind dus op ‘n diep geestelike en ideologiese vlak teen Israel plaas. Die koninkryk van die duisternis weet beslis dat Israel se Messias terugkom Jerusalem toe en op die hoogtepunt van die slag van Armagéddon sy voete op die Olyfberg sal sit, die oorblyfsel van Israel sal red en die troon van Dawid in Jerusalem sal herstel. Dan sal dit met die huidige koninkryke van die wêreld klaar wees en die vyande van Israel sal kruipende na hulle toe kom en hulle guns soek (Jes 60:12, 14). Dan sal al die afgode uitgeroei word, en sal die kennis van die Here, die Heilige Van Israel, die aarde vervul soos die waters die seebodem bedek (Jes. 11:9).

Dit wil die koninkryk van die duisternis glad nie hê nie, daarom die huidige opbouing van antichristelike magte in die wêreld, maar spesifiek in die Midde-Ooste. Die terugkeer van Israel na hulle land spel vir die hele wêreld die boodskap uit dat die dag van die Here spoedig sal begin. Eers gaan die ware gelowiges weggeneem word, soos in die tyd van Noag en Lot. Dan sal God se oordele oor ‘n Christus-verwerpende wêreld uitgestort word. Israel sal ook in groot benoudheid kom, sodat ‘n oorblyfsel van hulle gered kan word. Aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking sal die tyd vir die koms van die ware Christus aanbreek. In daardie stadium sal die Antichris reeds sewe jaar lank oor die wêreld regeer het – eers as ‘n valse vredevors en daarna as ‘n militêre diktator.

Hy sal alles in die stryd werp om die koninkryk van God te beveg en al die verteenwoordigers daarvan uit te roei. As deel van hierdie program sal hy ‘n Joodse volksmoord gelas sodat die volk van God uitgewis kan word. Die Here sal egter aan sy volk ‘n plek van ontvlugting in die woestyn gee waar hulle uit die gesig van die dier vir die laaste 3½ jaar van die verdrukking onderhou kan word. Die Here Jesus noem hierdie tyd ‘n groot verdrukking soos daar nog nooit was nie en nooit weer daarna sal wees nie (Matt. 24:21).

Die Antichris sal ook die Christene wat daardie tyd eers tot bekering kom, vervolg en laat doodmaak. Hy sal geen godsdiensvyrheid aan hulle verleen nie en almal dwing om hom alleen te aanbid (Op. 13:4, 15). Hy sal dus ‘n totale oorlog teen die koninkryk van God voer: dit behels Israel as die volk van God, die nie-Joodse Christene wat ook deel van God se koninkryk is, Jerusalem as die stad waarheen Christus terugkeer om sy duisendjarige ryk te vestig, en uiteindelik teen Jesus self wat beloof het om na die aarde terug te kom en sy vyande te verdelg.

Die Antichris sal alle moontlike militêre mag tot sy beskikking oproep om teen die ware Christus te veg wanneer Hy terugkeer, en ook om die oorblyfsel van Israel uit te delg sodat die Here hulle nie kan red en sy doel met hulle in die millennium kan bereik nie. Vir hierdie mobilisasie sal demone ingespan word. Johannes sê:

“En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God… En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Op. 16:13-16).

Die gevolge van hierdie oorlog teen Israel en sy Messias word in Openbaring 19 beskryf:

“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21).

Hierdie geprofeteerde neerlag sal die Antichris probeer voorkom deur dit in ‘n oorwinning vir hom en sy magte te omskep, maar alles tevergeefs.

Wat ons nou in die Midde-Ooste sien, is die begin van die groot, eindtydse konfrontasie tussen die magte van die lig en die duisternis. Israel se blote teenwoordigheid in die land van sy vaders, sy beheer oor die stad Jerusalem en sy voorneme om die Joodse tempel op die Tempelberg te bou, het die eerste fase van hierdie konfrontasie aan die gang gesit. Die huidige pogings om Israel se grondgebied te verdeel, en ook Jerusalem tussen Israel en sy vyande te verdeel, is net die begin van vyandige sameswerings om hulle geheel en al te verdryf en uit te delg.

Die feit is egter dat die Here hierdie land aan Israel gegee het. God het aan Abraham gesê: “Slaan tog jou oë op en kyk van die plek van waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en jou nageslag tot in ewigheid” (Gen. 13:14-15). Hierdie belofte is aan Isak en Jakob herbevestig. Israel het dus ‘n goddelike mandaat oor die land, en almal wat dit nie erken nie, skaar hulleself by die vyande van Israel. Oor hulle sal die oordele van die Here uitgestort word, selfs al verdeel hulle net die land en vervreem sodoende ‘n deel van Israel se erfenis. Die Here sê:

“Want kyk, in dié dae en dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek die nasies versamel en hulle na die dal van Josafat laat aftrek [dit is die Kidron-vallei in Jerusalem] om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).

Let daarop dat Israel God se volk is en dat die land ook God se land is. Dit is ‘n daad van rebellie teen God om hierdie land van Israel te vervreem, al is dit ook net gedeeltelik, deur dit tussen hulle en hul vyande te verdeel. Jerusalem is ook ‘n stad wat die Here verkies het om sy Naam vir ewig daar te vestig (1 Kon. 9:3). Jerusalem se rol as ‘n plek van godsopenbaring is dus nie afgehandel nie, maar moet ná die herstel van  Israel verder voortgaan. Die Messias kom hierheen terug en Hy sal ook in die millennium van die herstelde troon van Dawid af uit dié stad regeer.

Die vyande van Israel aanvaar nie hierdie toedrag van sake nie, en het hulle eie bose agenda wat hulle volg. Hulle werk direk teen die raadsplan van God, en maak dus van Jerusalem ‘n omstrede stad. Juis omdat hulle dit doen, sal die Here hulle in Israel en ook spesifiek in en rondom Jerusalem vergader om hulle te straf. Die Here sê:

“Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring van Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word… En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond” (Sag. 12:2-3; 14:12).

Soos wat Israel gehaat word deur ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê, word die kerk van Christis eweneens deur ‘n sondige wêreld gehaat. Die Here Jesus het vir sy dissipels gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie… daarom haat die wêreld julle” (Joh. 15:18-19). Evangeliese Christene pas dus net so min as Israel in die ontluikende nuwe wêreldorde van die Antichris in. Nie net word die Christendom tot die vlak van die heidense gelowe gereduseer en daarmee gelykgestel nie, maar dit word ook uit grondwette, parlemente en staatskole uitgegooi. Dit alles is ‘n bewys daarvan dat die evangeliese Christendom net so min in die nuwe wêreldorde geduld sal word as wat Israel aanvaar en geduld sal word. Albei is aan die koninkryk van God verbonde, en sal primêre teikens in die komende ryk van die Antichris wees. Die huidige vyandigheid wat Israel en die evangeliese Christendom ervaar, is ‘n bewys daarvan dat politieke, ideologiese en godsdienstige strukture nou reeds vir die wêreldryk van die Antichris gevestig word.

God het die geloofwaardigheid van sy eie Woord aan die oorlewing, redding en verheerliking van ‘n oorblyfsel van Israel gekoppel. Die Antichris sal dus nie in sy doel slaag om hulle heeltemal uit te roei nie. Hy sál egter daarin slaag om al die nasies teen Israel te versamel, insluitende Amerika en Engeland. In ‘n stadium gedurende die donker dae wat kom, sal Israel heeltemal alleen staan. Die Here sê dat hulle dan, in hul nood, hulle skuld sal erken en die Messias se aangesig sal soek (Hos. 5:15).

In daardie stadium sal die wêreld deur die donker dae van die groot verdrukking wees, en sal net ‘n klein oorblyfsel van die nasies die vrederyk ingaan nadat hulle almal met die Messias versoen is. Dit is soveel beter om nóú met God versoen te word deur sy Seun wat die straf vir ons sondes op Homself geneem en aan ‘n kruishout daarvoor gesterf het. Nie net sal Hy aan ons ‘n nuwe lewe en die vrede van sondevergifnis gee nie, maar ook ‘n liefde vir sy volk Israel en die versekering dat ons in sy vrederyk as konings saam met Hom sal regeer.

 

12. Die Herrysenis van Babilon

Uit die oogpunt van Bybelse profesieë is Irak geweldig belangrik. Hierdie land is só belangrik dat daar om goeie redes verwag word dat die Antichris hier sy verskyning sal maak. Volgens die Bybel sal daar in die eindtyd nie net een van die grootste bedreigings vir wêreldvrede uit Irak kom nie, maar ook die inisiatief vir ‘n valse vrede waardeur die hele wêreld 3½ jaar lank verenig sal word.

In Bybelse tye het die huidige Irak in verskillende tydperke verskillende name gehad. Dit het bekend gestaan as Mesopotamië (Dit beteken “Land tussen die twee riviere” – dit is die Eufraat- en Tigrisriviere). In antieke tye was die land ook as Chaldea, Sinear en Babilonië bekend. Die eeerste wêreldryk is hier deur Nimrod gestig, wat die bouer van die stad Babilon teenaan die Eufraatrivier was. Babilonië was toe ‘n veel groter gebied as die huidige Irak. Daarna het die Assiriërs die Babiloniërs oorwin en het hulle ryksgebied as Assirië bekend gestaan. Dit het van die Middellandse See af tot aan die Persiese Golf gestrek. In 612 v.C. het die Chaldeërs die Siriërs oorwin en sodoende die nieu-Babiloniese ryk gestig. Nebukadnesar was die tweede koning van die herstelde ryk, met Babilon as hoofstad. In 586 v.C. is Jerusalem deur die Babiloniërs verwoes en is talle Jode as ballinge na Babel weggevoer. In 539 v.C. is Babel deur die Perse verower. Daarna was Babilonië onder verskillende ander volke se beheer. In beide die Griekse en Romeinse ryke het dit as die Siriese Provinsie bekend gestaan. Uiteindelik het hierdie gebied in die sewende eeu n.C. in die hande van die Arabiere geval, en het later in aparte lande verdeel geraak, naamlik Irak, Sirië, Libanon en Koeweit.

In die boek Daniël kry ons ‘n duidelike aanduiding dat die Antichris uit die antieke Babilonië sal verrys, wat later ook as Assirië en die Sriese Provinsie bekend gestaan het:

·      In Daniël 7:7-8 word die Antichris se herkoms binne die verband van die ou Romeinse ryk as een uit tien voorgestel. Hieruit alleen is dit nie duidelik uit watter een van die tien lande die Antichris sal kom nie, en kan dit bv. ook Italië of Engeland wees. Hou egter in gedagte dat die Siriese provinsie (wat die huidige Irak insluit) ‘n deel van die Romeinse ryk was.

·      Daarna word die Antichris in Daniël 8:8-9 as een uit vier voorgestel, wat die vier provinsies in die verdeelde Griekse ryk is. Nou word die kring nouer getrek en tot Oos-Europa en die Midde-Ooste beperk. Sirië (wat die huidige Irak insluit) was een van dié vier provinsies.

·      Uiteindelik word die Antichris in Daniël 11 as een uit twee voorgestel, wat die gebiede van die koning van die Noorde en die koning van die Suide in die verdeelde Griekse ryk ná Alexander die Grote was. Die noordelike provinsie was Sirië en die suidelike een Egipte. Die historiese stryd tussen hulle word in Daniël 11:2-35 beskryf, en die eindtydse koning van die Noorde, wat ‘n tipe van die Antichris is, in Daniël 11:36-45. Hy sal dus uit Irak of Sirië kom.

In Jesaja 10 is ook ‘n duidelike profesie oor die herstelde Assiriese ryk van die eindtyd. Dit word in Jesaja 10:20 duidelik binne die verband van die dag van die Here geplaas, wat ‘n verwysing na die komende groot verdrukking is. In hierdie gedeelte is die koning van Assirië ‘n verwysing na die Antichris. Ek haal vir u aan uit Jesaja 10:12-14:

“Maar as die Here sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë. Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos ‘n maghebber neergewerp. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na ‘n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaar­geskraap soos ‘n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat ‘n vlerk verroer of ‘n bek oopgemaak of gepiep het nie” (Jes. 10:12-14).

Dit is dus baie duidelik dat die Antichris die moderne koning van Assirië sal wees. Let daarop dat hy ‘n nuwe wêreldorde van internasionale eenheid gaan instel waarin grense tussen vroeëre soewereinse state weggeneem en die magte van hulle regerings ingekort sal word. Hy sal ook sonder enige teëstand beheer oor die wêreldekonomie verkry. Hiermee saam sal hy ‘n huwelik tussen godsdiens en politiek bewerkstelling deur homself as wêreldleier ook te vergoddelik. In Daniël 11 word na hierdie selfde eindtydse koning as die koning van die noorde verwys wat homself tot God sal verklaar. Ek haal aan:

“En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel… en dié koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god… en op die gode van sy vaders sal hy geen ag slaan nie, want hy sal homself bo alles groot hou.” Die voortdurende offer wat die Antichris sal afskaf, dui op die offers in die herboude tempel in Jerusalem wat hy sal afskaf sodat hy ‘n ontsettende gruwel in die plek daarvan kan opstel. Hierdie ontsettende gruwel dui op ‘n afgodsbeeld van homself wat in die tempel ingebring sal word en tot verpligte afgodediens sal lei. Volgens Daniël 9:27 sal hy dit in die middel van ‘n jaarweek doen, met ander woorde presies in die middel van sy regering van sewe jaar. Toe die dissipels aan die Here Jesus ‘n teken oor sy wederkoms gevra het, het Hy in Mattheus 24 van vers 15 af gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet dié wat in Judea is na die berge vlug… want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie.”

Die gruwel van die verwoesting verwys na die Antichris wat as ‘n gruwelike verwoester die herboude tempel sal betree, homself bo alle gode en godsdienste op aarde sal verhef deur homself tot God te verklaar, en ook die aanbidding van ‘n beeld van hom sal gelas. Hierdie scenario is beslis eindtyds, want in sy profetiese rede in Mattheus 24:29-30 sê die Here Jesus dat sy wederkoms dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal plaasvind. Paulus het ook in 2 Thessalonicense 2 na die selfverheffing en selfvergodde­liking van die Antichris verwys toe hy hom beskryf het as “die teëstander wat homself verhef bo al wat god genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.” Dit dui op ‘n daad deur ‘n eindtydse Antichris, want Paulus voeg in vers 8 by dat die Here Jesus die Antichris deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak. Dit wat in die laaste deel van Daniël 11 beskryf word, gaan dus eers in die eindtyd in vervulling.

Dit is dus duidelik dat daar in die eindtyd ‘n valse vredevors in die ou Babilonië of Assirië sal verrys wat homself tot God sal verklaar en die aanbidding van alle mense sal opeis. Soos Nebukadnesar van ouds sal almal wat weier om neer te val en sy beeld te aanbid, in ‘n vuuroond van vervolging sterf. Openbaring 13:15 sê dat almal wat sal weier om die Antichris se beeld te aanbid, gedood sal word. Die vrede en eenheid wat hy sal bring, sal op godsdienstige misleiding gebaseer wees. Hy sal homself bo alle gode groot hou deur hom bo alle godsdienste te verhef. Hy sal dus ‘n multigodsdienstige ideologie propageer en homself as die universele messias van alle gelowe voorhou. Wanneer hy dit gedoen het, sal hy kort daarna tot die stap oorgaan om homself nie net slegs as wêreldmessias nie maar as God te verklaar. Hy sal genadeloos op al sy teëstanders toeslaan, en dan sal 1 Thessalonicense 5:3 vervul word: Hulle sal sê: Vrede en veiligheid, dan oorval ‘n skielike verderf hulle.”

Hoe kan ons hierdie profetiese beskrywing in verband bring met dit wat huidiglik in Irak gebeur? Wat ons tans in Irak sien, is ‘n poging deur Saddam Hoesein om die glorie van die antieke Babiloniese ryk te laat herleef. Hy het sedert 1978 al ‘n gedeelte van die ou stad Babilon laat herbou, insluitende die suidelike deel van Nebukadnesar se paleis. Tans is Babilon nie veel meer as ‘n toeristesentrum met hotelle, ‘n aantal geboue en die pilaargang van Isjtar nie, omdat Irak se regering nie genoeg geld vir grootskaalse uitbreidings van die stad het nie. Saddam Hoesein droom egter steeds dat hy in ‘n moderne Nebukadnesar kan ontwikkel wat, soos sy antieke voorganger, Jerusalem kan verwoes en as ‘n groot wêreldleier erken sal word.

Volgens Openbaring 17 en 18 gaan Babilon inderdaad weer ‘n groot rol in die wêreldgeskiedenis speel. Openbaring 17 verwys na verborge Babilon, wat die Babiloniese godsdiens is, terwyl Openbaring 18 na Babilon as ‘n florerende handelstad en sentrum vir uitspattige vermaaklikheid verwys. Hierdie twee hoofstukke staan in ‘n noue verband met mekaar, want verborge Babilon gaan ook ‘n tuiste in die herboude stad vind. Die valse Babiloniese godsdiens van antieke tye het sterrewiggelary, waarsêery, spiritisme, die verkryging van ‘n kosmiese bewussyn, die navolging van ‘n priester-orde met spesiale magte, die verering van ‘n priester-koning en die aanbidding van die songod en die hemelgodin met haar kind ingesluit. Die valse godsdienste van die wêreld het uit hierdie gebruike ontwikkel, en in die eindtyd sal hulle weer in ‘n multigodsdienstige ekumeniese liggaam as verborge Babilon, die moeder van die afvalliges, gestalte aanneem. In Sagaria 5:5-11 word na ‘n vrou in ‘n efa verwys wat as goddeloosheid beskryf word. Dit verwys na hierdie moeder­organisasie van valse Babiloniese godsdienste. In vers 11 word gesê dat daar vir haar ‘n huis in die land Sineaer (dit is Babilonië in die huidige Irak) gebou word, en wanneer dit klaar is, sal sy op haar plek neergesit word. Dit is dus baie duidelik dat Babilon die finale tuiste van die multigodsdienstige organisasies van ons tyd is.

Kom ons keer nou terug na die rol wat Saddam Hoesein speel om die ou Babilon te laat herleef en die platform vir die Antichris se optrede voor te berei. Voordat die wêreld ‘n groot behoefte aan ‘n internasionale vredevors sal hê, moet die wêreld eers in ‘n baie groot krisis gedompel word en op die randjie van ‘n vernietigende wêreldoorlog te staan kom. Hiervoor is Saddam Hoesein besig om te sorg, want hy het ‘n baie lang lys vyande. Hieronder is Israel sy mees gehate vyand, en daarmee saam ook al Israel se bondgenote – veral Amerika en Brittanje. Amerika word as die groot Satan beskou omdat hulle Israel help en ook van wapens voorsien. Saddam Hoesein het egter het ook baie vroeëre én potensieel toekomstige vyande in die Arabiese wêreld omdat hy sy grondgebied drasties wil uitbrei. Dit het hom al in vyandskap met buurlande soos Iran, Koeweit en Sirië gebring.

Die krisis tussen Amerika en Irak moet dus uit die oogpunt van Bybelse profesieë in ‘n baie ernstige lig beskou word. Dit is nie net iets wat van verbygaande aard is nie. Die brandpunt van wêreldgebeure gaan ál hoe meer na die Midde-Ooste toe verskuif. Hier sal daar uitsluitsel oor kwessies van wêreldvrede of ‘n wêreldoorlog gegee word. Dit word al hoe meer duidelik dat Saddam Hoesein die rol van wegbereider speel wat die wêreld militêr en polities polariseer. ‘n Politieke polarisasie vind plaas deurdat al hoe meer lande vir of teen ‘n Amerikaans-Britse inval in Irak gegroepeer word. Politieke standpunte sal ook tot besluite oor militêre optrede lei.

 

13. Die Wegraping

As gevolg van die sterk inslag van antichiliasme in die meeste gereformeerde kerke, is die konsep van die wegraping vir baie mense vreemd. Dit is dus nodig om hierdie profetiese belofte duidelik in sy profetiese konteks te beskryf.

Belofte van die Wegraping

Ons leef in ‘n tyd waarin daar talle Bybelse profesieë in vervulling gaan, en dit dui op die spoedige wederkoms van Jesus Christus. Soos wat mense die profetiese woord ter harte neem en bestudeer, verkry hulle ook meer duidelikheid oor toekomstige gebeure. Hulle sien ‘n wêreldtoneel ontvou wat enersyds baie donker is en op geweldige oordele afstuur, en andersyds vlam ‘n verblydende hoop in die harte van gelowiges op dat hulle die komende oordele kan ontvlug as hulle saak met die Here waarlik reg is. Die belofte van ontvlugting is die goeie nuus-element in die profesieë en is die salige hoop waaraan elke Christen in hierdie donker dae moet vashou (Titus 2:13).

Twee fases

Om die wederkoms reg te kan verstaan moet die twee fases daarvan duidelik onderskei word, naamlik Christus se koms vir sy heiliges en sy koms met sy heiliges. Gedurende die eerste fase kom die hemelse Bruidegom baie onverwags, soos ‘n dief in die nag, om sy bruid te kom haal. Hy ontmoet haar in die lug en voer haar vinnig na hemelse plekke weg (Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-17; 1 Thess. 5:2). Gedurende die tweede fase kom Hy in die openbaar sodat elke oog Hom sal sien. Hy word vergesel van sy bruid, asook ‘n hemelse leërskare, en sit sy voet op die Olyfberg neer (Sag. 14:4-5; Op. 19:11-15).

Die twee fases van die wederkoms blyk ook duidelik uit die verskillende Griekse terme wat in die oorspronklike taal gebruik is. Die eerste fase, wanneer die Here Jesus skielik in die midde van sy bruidsgemeente sal verskyn, word parousia genoem. Dit dui op sy fisiese teenwoordigheid, en hierna sal Hy nooit weer van sy bruidsgemeente geskei word nie. Hy het nou “verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid” (Heb. 9:28) en hulle sal daarna altyd by Hom bly.

Die tweede fase van die wederkoms staan as Christus se apokalipse of faneros bekend – dit is sy openbaarmaking of sigbaarwording. Hy kom nie nou in die geheim net om aan sy bruidsgemeente te verskyn nie, maar Hy word as Regter en Koning aan die hele wêreld geopenbaar. Dit is die “wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges” (1 Thess. 3:13). Christus en sy heiliges word dus gelyktydig in heerlikheid aan die wêreld geopenbaar:

“Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4).

Dit is tog duidelik dat die Christene nie saam met die Here Jesus kan kom en in hulle verheerlikte liggame geopenbaar word, as hulle nie vooraf reeds met Hom verenig is nie. Op hierdie openbaarmaking wag die hele skepping ook, omdat daar tydens die regering van Christus en sy heiliges harmonie en gunstige omstandighede in die hele wêreld sal heers:

“Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God” (Rom. 8:19).

Die Bruidegom kom sy bruid haal

Tydens die wegraping, wat noodwendig die sigbare koms voorafgaan, kom die hemelse Bruidegom net om sy bruid te kom haal. By hierdie geleentheid vertoon Hy Homself glad nie aan die miljoene ander mense op aarde nie.

In die Bybelse tyd het die Joodse bruidegom ná sy verlowing vir ‘n lang tyd weggegaan om vir hom en sy bruid ‘n woonplek by sy vaderhuis te gaan berei. Daarna het hy haar in die geheim in die nag kom haal sonder dat selfs haar huismense op daardie oomblik daarvan bewus was, en haar saam met hom na sy vaderhuis geneem. Jesus Christus het sy hemelvaart na analogie van hierdie gebruik aan sy dissipels verduidelik:

“In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:2-3).

Wanneer Jesus Christus dus met sy parousia kom, sal Hy skielik in die midde van sy bruidsgemeente verskyn. Dit sal ook die vervulling van ‘n belofte wees wat tydens die hemelvaart aan volgelinge van Jesus gemaak is:

“Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand. 1:11).

Jesus is ná sy opstanding slegs deur gelowiges gesien. Hy is deur sy hemelvaart van hulle geskei en sal tydens die wegraping met hulle verenig word. Die ander mense sal op aarde agtergelaat word omdat hulle deur hul eie toedoen nie lede is van die groep wat aan Jesus behoort en met wie Hy ‘n spesiale afspraak het nie:

“In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:34).

Verheerliking

Die verheerliking van Christene begin op daardie oomblik wanneer die basuin van God sal blaas. Die ontslape heiliges sal dan uit die dode opgewek en die lewende heiliges in ‘n oomblik verander word om almal saam hulle verheerlikte liggame te ontvang:

“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor. 15:51-53).

Wanneer dit gebeur, sal ons met betrekking tot ons verheerlikte liggame aan Christus gelyk wees (in rang bly Hy steeds by verre ons meerdere omdat Hy die Hoof van die gemeente is):

“Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees” (1 Joh. 3: 2).

Wanneer Hy skielik in ons midde verskyn, word ons in ‘n oomblik met onverganklike hemelse liggame beklee en sodoende in onsterflike hemelse wesens verander. ‘n Nuwe dimensie van bestaan word dan betree:

“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3: 20-21).

Die wegvoering

Onmiddellik nadat die ontslape én lewende heiliges met verheerlikte liggame beklee is, word hulle van die aarde af weggevoer na die hemel om vir ewig in die teenwoordigheid van die Here Jesus te wees:

“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:15-18).

Let daarop dat bogenoemde ontmoeting in die lug sal plaasvind en dat slegs Christene daarby betrokke is. Die Here Jesus sit nie in hierdie stadium sy voet op die Olyfberg neer nie, maar keer onmiddellik met sy bruid wat Hy kom haal het, na sy Vaderhuis in die hemel terug.

Die woord weggevoer in 1 Thessalonicense 4: 17 (harpazo in Grieks) beteken om vinnig weggeruk te word. Hierdie woord word ook gebruik om die aksie te beskryf wanneer ‘n arend sy prooi gryp en vinnig daarmee wegvlieg.

Die bewering deur sommige van die kritici dat die woord wegraping nie in die Bybel voorkom nie, is dus van alle waarheid ontbloot. Die woord harpazo kan vertaal word as:

·        wegvoer,

·        wegraap, of

·        vinnig wegruk.

In sy internasionaal erkende Studies in the Vocabulary of the Greek New Testament, sê K.S. Wuest die volgende oor dié woord:

“HARPAZO. This is a Greek word which has various meanings. It is not translated by one uniform English word. The meanings are as follows: ‘to seize’, ‘to carry off by force’, ‘to claim for one’s self eagerly’, ‘to snatch out or away’. It was used proverbially in the sense of ‘to rescue from the danger of destruction’. It was used also of ‘divine power transferring a person marvellously and swiftly from one place to another... Pay especial attention to 1 Thessalonians 4:17, and see how much new truth you obtain regarding the Rapture of the Church.”

Die volgende is ‘n paar voorbeelde van tekste waarin die begrip harpazo in die Nuwe Testament gebruik word, en waaruit die betekenis daarvan duidelik blyk:

·         “En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie” (Hand. 8:39).

·         “Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede – of dit in die liggaam was, weet ek nie... dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel” (2 Kor. 12:2).

·         “En toe daar ‘n groot twis ontstaan het en die owerste oor duisend gevrees het dat Paulus deur hulle verskeur sou word, het hy die soldate bevel gegee om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp te bring” (Hand. 23:10).

·         “…maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk” (Judas v. 23).

·         “En [die vrou] het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon” (Op. 12:5).

Laasgenoemde teks verwys na die hemelvaart van die Here Jesus. Hy is van die aarde af weggeruk of weggeraap na God en sy troon. Volgens Handelinge 1:11 is Hy in die hemel opgeneem.

Ontvlugting

Uit die oogpunt van omstandighede op aarde sal die wegraping vir Christene ‘n ontvlugting uit dreigende oordele wees. Dit sal ‘n donker tyd van geweldige geestelike misleiding wees. Die evangeliese Christene sal as onbybels en liefdeloos bestempel en geminag word. Hulle sal as doemprofete beskou word omdat hulle die naderende oordele van God verkondig, wat in die groot verdrukking oor die aarde sal kom. Hulle sal ook as rebelle beskou word omdat hulle nie die hervormings van die nuwe wêreldorde wil aanvaar nie. Namate die dag vir die openbaring van die Antichris nader kom, sal hierdie mense aan geweldige druk, intimidasie en dreigemente onderwerp word. Indien hulle egter aan die Here getrou bly, sal die Here Jesus hulle saam met die ander ware gelowiges kom haal en sodoende die verdrukking op aarde laat ontvlug:

“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Die aanhangers van die Nuwe Era Beweging se valse vrede sal nie die oordele van die verdrukking ontvlug nie:

“Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood van ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3).

Uit die bogenoemde twee tekste is dit duidelik dat daar in die eerste geval ‘n groep is wat die komende oordele sal ontvlug, en in die ander geval ‘n groep wat onverhoeds betrap gaan word en dit sekerlik nie sal ontvlug nie.

Die woord ontvlug (Grieks ekfeugo) beteken beslis om buite die verdrukking te wees, en volgens die uitspraak in Lukas 21:36 in die teenwoordigheid van die Seun van die mens. Die voorvoegsel ek beteken in die Grieks altyd buite, daarom is die Nuwe Vertaling heeltemal verkeerd as dit beweer dat ons deur die verdrukking moet gaan. Die King James vertaling is volkome korrek as dit hierdie aksie van ontvlug as escape vertaal. Ons sal nie hier wees nie.

As gevolg van die omstredenheid van die begrip ontvlug is dit raadsaam om ook hier die uitspraak van ‘n hoogs gesaghebbende Griekse woordeboek aan te haal, naamlik A Greek English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, deur W.F. Arndt en F.W. Gingrich. Hierin word die grondbetekenis van ekfeugo (ontvlug) met die vermelding van verskeie voorbeelde van die gebruik daarvan aangedui. Die woord ekfeugo kan vertaal word as:

·        na veiligheid ontsnap,

·        ontvlug, en

·        vermy of ontwyk.

Lukas 21:36 se betekenis van ekfeugo word spesifiek in dié woordeboek as ‘escape tribulations’ (ontvlugting uit die verdrukking) aangedui.

In die Nuwe Afrikaanse Bybel (1983 vertaling) is daar ‘n doelbewuste poging deur die vertalers aangewend om as gevolg van hulle eie teologiese siening, waarin daar geen plek vir ‘n wegraping is nie, die begrip ontvlug uit die Bybel uit te vertaal. In Lukas 21:36 het hulle dus die grondteks ‘aangepas’ sodat die kerk nou deur die verdrukking moet gaan. Daar is geen ander gevolgtrekking as dat hierdie teks op ‘n berekende wyse volgens antichiliastiese eksegetiese beginsels vertaal is nie.

Die vertalers is egter nie konsekwent nie en kan ook nie dié fout aan onkunde toeskryf nie, want hulle het die woord ekfeugo in Handelinge 16:27 as ontsnap, in Handelinge 19:16 as gevlug, in 1 Thessalonicense 5:3 as ontkom en in Hebreërs 2:3 ook as ontkom vertaal. In Lukas 21:36 word dit egter op ‘n totaal teenstrydige wyse as behoue deurkom vertaal. In die eersgenoemde vier gevalle het die woord telkens die betekenis dat mense uit ‘n bepaalde plek of probleemsituasie wegkom, maar in Lukas 21:36 moet hulle deur die verdrukking gaan!

Die Here bied egter aan u ontvlugting uit die komende oordele. Die groot verdrukking is beslis ‘n tyd van goddelike toorn. Wanneer die kragte van die hemele geskud word en mense se harte beswyk van vrees en verwagting, sal hulle paniekbevange na die berge roep en sê: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

As u waak en bid en geestelik waardig is, sal u hierdie oordele ontvlug!

“In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:34-36).

‘n Dramatiese uitredding

Die wegraping sal ‘n baie besondere en hoogs dramatiese gebeurtenis wees omdat dit ‘n ingryping deur God vir die fisiese uitredding van die gelowiges onder uiters moeilike omstandighede op aarde sal wees. Hoewel die wegraping as gevolg van sy aard en omvang uniek sal wees, was daar al verskeie goddelike ingrypinge vir die behoud van gelowiges in tye van oordeel.

In die dae van Noag het God sy oordele oor ‘n bose, gewelddadige en moreel verdorwe geslag mense aangekondig (Gen. 6:5-14). Pas voor die uitstorting van goddelike toorn is die gelowiges deur middel van die ark in ‘n plek van veiligheid gestel. Die Here het self die deur agter hulle toegesluit voordat Hy Homself in oordeel tot die sondaars gewend het (Gen. 7:16-23).

In die tyd van Lot het daar ook ‘n uitreddingsaksie plaasgevind. Hulle het in die nag voordat Sodom en Gomorra deur die gloed van God se toorn vernietig is, ‘n dringende opdrag gekry om die rampgebied te ontruim. Die twee engele het ook gesê dat hulle niks kon doen solank Lot en sy gesin nog daar was nie. Kort nadat hulle vertrek het, het vuur en swawel op die goddeloses gereën (Gen. 19:13-17, 22-25).

Daar is ‘n duidelike korrelasie tussen hierdie gebeure en God se handelswyse met die eindtydse gelowiges nét voor die sewe jaar lange verdrukking:

“En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Luk. 17:26-30. Lees ook Génesis 6 en 19 oor die boosheid van daardie geslag mense).

Die lyn kan só na ons tyd deurgetrek word:

·         In die tyd van Noag en Lot was daar grootskaalse geestelike en morele verval omdat feitlik almal vrye teuels aan hulle verdorwe natuur gegee het. Die versinsels in mense se harte was altyddeur net sleg, en bandelose gemeenskappe was die gevolg hiervan. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het anargie geheers en mense het in dié wettelose samelewings gedoen net wat hulle wou. Geweld was die mees algemene metode waardeur konflikte en meningsverskille besleg is. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot was mense totaal materialisties en hulle wou glad nie die gevare verbonde aan hul korrupte lewenswyse insien nie. Die sekulêre dinge soos koop en verkoop, en die sensuele dinge soos partytjies, drank en verhoudings met die teenoorgestelde geslag (asook met lede van dieselfde geslag!) het hulle denke en lewe totaal oorheers. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het die algemene publiek met die manne van God gespot en hulle glad nie aan profetiese waarskuwings oor die oordele van God gesteur nie. Hulle het dit as belaglike en vergesogte stories afgemaak en met hulle roekelose lewenswyse van vleeslike genietinge en hebsug voortgegaan. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het die Here die vervalle sondaars ‘n billike tyd gegee om hulle van hul bose weë te bekeer. Hulle wou dit egter nie doen nie en het daardeur hulle eie lot verseël. Niemand anders behalwe hulself kan vir hulle ondergang en ellende geblameer word nie. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het God op ‘n kritieke oomblik aan die gelowiges ontvlugting gebied deur hulle in ‘n plek van veiligheid te stel voordat Hy die sondaars geoordeel het. Die volgorde is dus: profetiese waarskuwings van naderende oordele, daarna die beveiliging van die gelowiges wat op die herhaalde oproepe tot bekering gereageer het, en dan die oordele oor die sondaars. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot was daar onder die gelowiges nie plek vir vormgodsdienstige meelopers wie se harte nog aan wêreldse belange verknog was nie. Lot se vrou is ‘n tipe van dié soort mense, en dit het op die laaste oomblik haar lewe gekos. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het daar kort ná die beveiliging van die gelowiges ‘n skrikwekkende toneel afgespeel toe God se genadetyd vir dié groep sondaars verbygegaan het. Dood en verwoesting is gesaai. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het die sondaars nie besef hoeveel voorregte hulle geniet het as gevolg van die teenwoordigheid van ‘n paar gelowiges in hulle midde nie. Die Here was bereid om ‘n stad te spaar as daar net tien regverdiges in was. Toe hierdie mense wat soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag geskyn het, skielik weggeneem is, het dit vir die goddelose wêreld waarin hulle gewoon het, nag geword. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag het die spottende wêreldlinge vir die bouers aan die ark gelag en in die verhardheid van hul harte voortgegaan “en dit nie verstaan voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24: 39).

Die vyande van God is verduister in hulle gemoed en gaan in eiewaan voort totdat hulle skielik tot ‘n val kom. Dan is daar vir hulle geen redder nie.

Wil u nie liewer vandag na God se kant oorkom en deur sy Seun se kruisdood met Hom versoen word nie? Hy alleen kan u waardig maak om die komende verdrukking, wat ‘n oordeel van God oor ’n sondige wêreld is, te ontvlug en saam met Jesus Christus in die veiligheid en vreugde van sy vaderhuis te wees wanneer die uur van die duisternis oor die aarde aanbreek.

Teëhouers

Noag en Lot moes die goddelose mense van hulle tyd aanspreek en deur ernstige en volgehoue waarskuwings tot hulle sinne probeer bring. Die Christene van die Nuwe Testament moet soveel te meer in hierdie kort rukkie voor die wegraping en die verdrukking hulle rol as die sout van ‘n bedorwe aarde en die lig van ‘n donker wêreld vervul. Te midde van die opmars van die magte van die Antichris het hulle die uitdruklike opdrag om as teëhouers op te tree:

“En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thess. 2:6-9).

As u bostaande gedeelte in 2 Thessalonicense 2 noukeurig lees, sal u uself van verskeie populêre maar onskriftuurlike sienings oor die aard en volgorde van eindtydse gebeure vrywaar. Let veral op die rol van die teëhouer, soos ook in Hoofstuk 10 verduidelik. Die volgende waarhede oor die persoon van die Antichris en die voorwaardes vir sy verskyning op aarde aan die begin van die verdrukking blyk duidelik hieruit:

Die Antichris is ‘n eindtydse figuur

Sy bewind word deur die openbare verskyning van Jesus Christus aan die einde van die groot verdrukking beëindig (vgl. Op. 19:19-20). Historiese figure soos Nero was dus net voorlopers of tipes van die Antichris.

Die wegraping vind voor die verskyning van die Antichris plaas

Die Antichris kan nie geopenbaar word totdat hy wat hom teëhou, uit die weg geruim is nie. Moet dus nie die teorie aanvaar dat die wegraping in die middel van die verdrukking plaasvind nie. In die middel van die sewe jaar lange verdrukking verbreek die Antichris sy verbond met Israel, ontheilig die tempel en verklaar homself tot God (Dan. 9:27, 11:36-37; Matt. 24:15-21; 2 Thess. 2:4). Direk hierna is dit nie die ontvlugting van die Christene nie, maar die vlug van Israel na die woestyn (Matt. 24:16; Op. 12:14). Ons moenie hierdie twee gebeurtenisse met mekaar verwar nie.

Dwalings en onskriftuurlike verwagtings lei na ‘n valse perspektief en verkeerde prioriteite. Deur die beskouing van ‘n wegraping in die middel van die verdrukking word die Christus-verwagting van gelowiges deur ‘n Antichris-verwagting vervang. Hulle prioriteite kom dan onmiddellik as gevolg hiervan in die gedrang. In plaas daarvan om heiligmaking en diensbaarheid in afwagting op die spoedige koms van die hemelse Bruidegom na te streef, begin hulle nou planne te maak oor hoe om in die verdrukking te oorleef en uit die strukture van die Antichris te bly. Dadelik is die werke onvanpas omdat die perspektief en visie onbybels is.

Ons opdrag is om vir Jesus te wag en met sy werke besig te bly totdat Hy kom. Indien ons dit doen, sal ons nie hier wees wanneer die Antichris geopenbaar word nie. Mense wat dink dat hulle maar eers vir die Antichris kan wag en dan 3½ jaar aftel totdat die Here kom, kyk ‘n baie kardinale aspek van die profesieë mis. Om gebeurlikheidsbeplanning te doen in plaas van voorbereidings om die rampgebied te ontvlug, kan tot ‘n groot ontnugtering lei.

Die Heilige Gees word nie weggeneem nie

Hy wat teëhou (2 Thess. 2:7) verwys na die ware kerk as die liggaam van Christus. Dit is waar dat dié mense almal ‘n tempel van die Gees van God is, maar die Heilige Gees verdwyn nie tydens die wegraping van die aarde af nie omdat Hy ‘n belangrike rol het om in die verdrukkingsperiode te vervul. Daar gaan trouens in hierdie tyd ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees oor die volk Israel plaasvind (Sag. 12:10). Pas ná die wegraping sal daar ‘n groot herlewing onder hulle wees waarin 144 000 Jode gered, verseël en as evangeliste uitgestuur sal word (Op. 7:1-8).

Daar word verder ook na ‘n menigte mense verwys wat in die verdrukkingstyd gered sal word (Op. 7:9-17). Geen siel kan sonder die bemiddeling van die Heilige Gees gered word nie, omdat Hý die genadewerk van Jesus Christus aan mense bedien.

Aktiewe teëhouers

Christene moet die verborge werkinge van ‘n antichristelike gees in die wêreld identifiseer en teëstaan, sodat die werk van God kan voortgaan en mense nie sonder waarskuwing in die mag van die dwaling beland nie. Op ‘n gegewe oomblik sal die Here ons wegneem, dan sal die uur van die duisternis aanbreek en die mens van sonde geopenbaar word.

Voorbereidings vir ‘n spoedige terugkeer

Ná die wegraping verskyn die gelowiges voor die regterstoel van Christus om genadeloon te ontvang (Rom. 14:10; 2 Kor. 5:10). Hulle sal in dié tyd ook saam met die Here Jesus die wêreld oordeel in die verdrukking (1 Kor. 6:2). Terwyl hulle as ouderlinge rondom die troon van die Lam is, koester hulle die vooruitsig om as oorwinnaars terug te keer aarde toe:

“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).

Die ouderlinge sien daarna uit om saam met Christus na die aarde terug te keer en aanskouers van die groot oorwinning oor die Antichris en sy magte te wees. Dan sal hulle saam met Christus in heerlikheid geopenbaar word:

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone… Sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs van die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer” (Op. 19:11-15).

Die plek van Christus se toetrede tot die wêreldtoneel, is Jerusalem:

“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die Oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal… Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!… En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:4-5, 9).

Redes vir die Wegraping

Die wegraping is ‘n baie geïgnoreerde onderwerp in moderne prediking, en sal opnuut in die Bybel ontdek en aan Christene verkondig moet word. Dit is ‘n belangrike belofte hierdie, wat om goeie redes by profesieë oor die eindtyd ingesluit is. Om hiervan kennis te neem, gee aan Christene ‘n vaste toekomsverwagting en iets konkreets om na uit te sien in ‘n andersins donker toneel van komende oordele oor ‘n goddelose wêreld.

Uit die Bybel blyk daar ten minste 12 redes waarom die belofte van die wegraping aan ons gemaak is:

1. Dit is ‘n ontmoeting met Christus

“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4: 16-18).

Wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal, sal dié wat in Christus gesterf het, uit hulle grafte opgewek word en diegene wat nog lewe, in ‘n oogwink met verheerlikte liggame beklee word (1 Kor. 15:51-53). Daarna sal die ware gelowiges saam in wolke weggevoer word, die Here tegemoet in die lug.

Die grootste verwagting wat ons met betrekking tot die wegraping het, is nie om hier weg te kom nie, maar om aan die anderkant aan te kom. Die verlangende bruid wil met die hemelse Bruidegom verenig word. Mense wat nie in die wegraping glo nie, moet vir hulleself uitmaak hoe anders as net deur die wegraping alleen hulle van die aarde af weggeruk kan word om die Here Jesus in die lug te ontmoet. Só is Jesus ná sy eerste koms na die hemel weggeruk (Op. 12:5); só is Paulus tot in die derde hemel weggeruk (2 Kor. 12:2); en só sal ons ook aan die einde van die kerkbedeling weggeruk word. Die hemelse Bruidegom kom by hierdie geleentheid nie in die openbaar sodat elke oog Hom sal sien nie, maar soos ‘n dief in die nag net om sy bruid te kom haal.

2. Dit is ‘n ingryping deur God

“Die Here self sal van die hemel neerdaal… en ons sal… in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug” (1 Thess. 4:16-17). Die bonatuurlikheid van die wegraping, nl. die wegvoering van miljoene Christene, sal só duidelik ‘n goddelike ingryping wees dat daar geen wetenskaplike verklarings voor sal wees nie, slegs absurde teorieë deur agnostici en bygelowiges. Dit is net die Here self wat deur sy almag al sy kinders in ‘n enkele oomblik kan verander en van die aarde af wegvoer.

“In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:34-36).

Die “aanneem” van sommiges sal tydens die wegraping plaasvind. Die “verlaat” van die ander dui daarop dat hulle sal agterbly om die donker dae van die Antichris se skrikbewind in die groot verdrukking te beleef.

Die skok-effek van die wegraping kan nouliks oorbeklemtoon word. In die dinge wat hierna gebeur, sal die Here se hand ook duidelik gesien kan word, veral in die oordele oor ‘n afvallige mensdom. Deur die dramatiese effek van die wegraping sal die Here ‘n ernstige boodskap aan ‘n multigodsdienstige en afvallige mensdom rig, naamlik dat hulle enigste hoop daarin geleë is om weer na sy Woord terug te keer en dit ernstig op te neem. Die wegraping sal die mat heeltemal onder die moderne vergeestelikingsteologie uittrek, waarin Bybelse uitsprake nie letterlik opgeneem word nie maar as vae beeldspraak of simboliek afgemaak word.

Ná die wegraping sal die meerderheid weens die verhardheid van hulle harte wél deur die krag van die dwaling mislei word, maar miljoene mense sal nuwe begrip vir die waarheid van die Bybel kry en die Here soek, ongeag die verwerping en vervolging wat dit in ‘n antichristelike nuwe wêreldorde vir hulle sal meebring.

3. Dit is die verkryging van ‘n opstandingsliggaam

Die wegraping staan duidelik in verband met die eerste opstanding wanneer al die ware gelowiges verheerlikte liggame sal verkry. Miljoene van dié wat weggeraap gaan word, is reeds dood, daarom moet hulle eers onverganklike nuwe liggame kry. Op daardie selfde oomblik sal die lewende gelowiges ook verheerlikte liggame kry en sonder die dood van verganklikheid na onverganklikheid verander word. Paulus verduidelik hierdie belofte só aan ‘n Christelike gemeente:

“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor. 15:51-53).

Aan die Filippense word gesê:

“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21).

Na hierdie eerste opstanding word as “die opstanding van die regverdiges” verwys (Luk. 14:14), asook na “die opstanding van die lewe” (Joh. 5:29). Johannes sê:

“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6).

Dit verwys na die duisendjarige vrederyk wanneer die opgestane en verheerlikte Christene saam met Jesus Christus sal regeer. Die goddeloses sal nie deel aan die eerste opstanding en die wegraping hê nie, daarom sê Johannes ook: “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Op. 20:5). Hulle sal deel hê aan die tweede opstanding, wat ook genoem word “die opstanding van die veroordeling” (Joh. 5:29). [Kyk artikel deur Spurgeon hierna].

4. Dit is ‘n skeiding tussen nominale en ware Christene

Behalwe die skeiding wat die wegraping tussen geredde en ongeredde mense in die wêreld teweeg sal bring, sal dit ook binne die verband van die Christelike kerk self ‘n skeiding tussen wedergebore en vormgodsdienstige lidmate tot gevolg hê. Die dwase maagde gaan agtergelaat word wanneer die Bruidegom kom, al het hulle ook hulself onder die groep gereken wat aan die Bruidegom behoort, en selfs op sy koms gewag. Die afwesigheid van die olie van die Heilige Gees in hulle lewe dui op die feit dat hulle nie weergebore en geesvervuld was nie.

Hoeveel miljoene kerklidmate bevind hulleself nie in die bootjie van ‘n selfmisleidende, dooie vormgodsdiens nie! Hulle redeneer dat aangesien hulle uitverkies is, en d.m.v. die doop in ‘n ewige verbond aan God verbind is, hulle nie ‘n ondervinding van wedergeboorte hoef te hê nie. Die Here Jesus het egter aan een van hierdie uitverkore teoloë gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Dit is net die herskeppingswerk van die Here wat jou lewe kan verander!

Maak seker dat jy tydens die wegraping nie geweeg en té lig bevind word nie, want dan sal jy beslis agterbly wanneer die Here Jesus sy bruid kom haal (Heb. 4:1).

5. Dit is die einde van ‘n dispensasie

Die wegraping beëindig die bedeling van die kerk op aarde, omdat die ware kerk dan van die aarde af na die hemel toe weggevoer sal word. Net die valse kerk en die valse godsdienste wat deur die gees van die Antichris mislei is (1 Joh. 4:1-6), sal op aarde agterbly. Ons is tans baie naby aan die einde van die bedeling van die kerk op aarde. Die Bybel identifiseer hierdie tydperk as ‘n tyd van groot afvalligheid en demoniese aktiwiteite (1 Tim. 4:1). Satan werp alles in die stryd om die kerk te vervals en die maagde wat op die koms van die Bruidegom moet wag, te mislei en aan die slaap te sus.

Terselfdertyd word die allesinsluitende eenheidsideologie van die komende antichristelike bedeling aktief verkondig, en ook strukture vir die wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie van die Antichris geskep. Dit is nie sonder rede dat die Here sê dat ons moet vas staan teen die aanslae, en moet waak en bid om ten alle tye vir die wegraping waardig te wees nie.

Dit is dus belangrik om die wegraping in sy dispensasionele verband te sien, nl. aan die einde van die bedeling van die kerk, en net voor die begin van die Antichris se regering. Ons moet met die oog hierop die tydsgees van verval in die Christelike kerk teëstaan, asook die opmars van die komende Antichris. Doen u dit? Die hemelse Bruidegom sê dat terwyl dié wat vuil is nóg vuiler word, moet die regverdiges nóg regverdiger en heiliger word (Op. 22:11). Hulle moet besef dat hulle in ‘n terminale situasie is, en nie in die minste aan die druk van die vyand moet toegee nie.

Prediking oor die wegraping is in ‘n tyd soos hierdie van kardinale belang. Dit is soos iemand wat aan ‘n langafstand wedloop deelneem, en wat die klok vir die laaste rondte hoor. Dit motiveer hom om nie te verslap nie, en tot die einde toe te volhard. Petrus sê: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas” (2 Pet. 3:11-12). Ons moet nie deur die onsekerhede van ‘n snel veranderende wêreld perspektief verloor en kompromie maak nie. Ons moet die goeie stryd van die geloof end-uit stry en teen alle boosheid weerstand bied.

6. Dit skep die geleentheid vir die Antichris om geopenbaar te word

Die wegraping word direk met die openbaring van die Antichris in verband gebring:

“…julle weet wat hom teëhou sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan…” (2 Thess. 2:6-10).

Die Christene staan die openbaring van die Antichris teë, en dit is eers ná hulle wegname dat hy geopenbaar kan word. Die Heilige Gees in die kerk is sterker as die gees van misleiding wat in die wêreld werk. Wanneer die ware kerk egter skielik weggeneem word, dan verdwyn die lig van die wêreld en breek die uur van die duisternis aan. Dan kan die mens van sonde sonder teëstand geopenbaar word. Die wegraping móét plaasvind voordat die Antichris sy verskyning kan maak!

Om mense dus op die wegraping voor te berei, behels ‘n geestelike ingesteldheid van getrouheid aan die ware Christus en ook die aktiewe verwerping van die komende Antichris. Jy moet ‘n teëhouer wees wat standpunt teen antichristelike ideologieë en hulle humanistiese eenheidstrukture inneem.

7. Dit is ‘n motivering vir standvastigheid in ‘n tyd van afvalligheid

Die koms van die Bruidegom vind plaas in ‘n tyd waarin dit geestelik gesproke donker is. Dit is ‘n tyd van groot afvalligheid en goddeloosheid. Die relatief klein groepie Christene sal skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Soos in die dae van Noag en Lot sal die aarde vol gewelddadigheid, materialisme en seksuele perversie wees. Ongelukkig sal hierdie gees van sondigheid en immoraliteit ook sy tol onder Christene eis. Hulle waaksaamheid sal verslap en hul geestelike standaarde afwaarts aangepas word: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Baie sal só ‘n lae profiel hou dat hulle in totale passiwiteit verval. Hierteen het die Here Jesus gewaarsku, en aan gelowiges die verwagting van sy skielike koms as ‘n motivering vir standvastigheid voorgehou:

“Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:35-37).

Onaktiewe Christene verflou in hulle liefde teenoor die Here Jesus. Die verskynsel van geestelike afkoeling manifesteer op twee maniere: Enersyds ontwikkel daar ‘n liefde vir die wêreld en wêreldse partytjies waar drank gebruik word, en andersyds lei dit tot bekommernis en depressie. Hierteen waarsku die Here Jesus ook, en Hy hou weer eens die wegraping as ‘n positiewe motivering voor om te volhard tot die einde toe:

“Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon” (Luk. 21:34-35).

Moenie in hierdie tyd jou eerste liefde verlaat en sodoende van Jesus Christus afvallig word nie (Op. 2:4).

8. Dit is ‘n ontvlugting uit die rampgebied van goddelike oordele

Die teks in Lukas 21:36 stel dit onomwonde dat die wegraping ‘n ontvlugting uit oordele is. Die Here sê: “Waak dan, en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Die woord ontvlug beteken om buite die rampgebied te bly – nie om behoue déúr dit te gaan soos die Nuwe Vertaling sê nie.

Net soos in die dae van Noag en Lot, móét die regverdiges eers in ‘n plek van veiligheid gestel word voordat die goddelike toorn oor ‘n Christus-verwerpende wêreld uitgestort kan word. Die Here het self die ark se deur agter Noag toegemaak voordat die watervloede begin het. In die geval van Lot en sy gesin het die engele aangedring dat hulle die stad moes verlaat, omdat die vuur en swael nie kon neerdaal terwyl hulle nog daar was nie. Hulle was nouliks weg toe word die oordele van die Here oor die sondaars uitgestort.

So is die wegraping vir ons ook ‘n uitkoms. Dit is ‘n salige hoop. Dit is soos ‘n helder lig aan die einde van ‘n donker tonnel. Baie mense sê die chiliaste het ‘n ontvlugtingsindroom, en dat hulle net hier wil wegkom sonder om hulle plig te doen terwyl hulle nog hier is.

Die teendeel is eerder waar. Chiliaste besef juis dat hulle min tyd oor het om vir die Here te werk, daarom is hulle dalk meer as andere gemotiveer om te doen wat hulle hand vind om te doen. Hulle besef dat daar ‘n verdrukking kom soos wat daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:21). As die Here ons daaruit wil verskoon, soos Hy ook met Noag en Lot gedoen het, waarom sal ons nie die wonderlike belofte van die wegraping aangryp en waak en bid om daarvoor waardig te wees nie?

Mense wat sinies oor die belofte van die wegraping is en nie geestelik voorbereid is om die komende oordele te ontvlug nie, openbaar ‘n baie onverskillige houding. Wat sou u daarvan sê as Noag soos volg geredeneer het: “Ek glo nie werklik dat die Here die aarde deur ‘n watervloed sal oordeel nie, daarom gaan ek nie ‘n ark bou om verdelging in die vloed te ontvlug nie”? Of wat sou van Lot en sy gesin geword het as hy gesê het: “Ek dink die oordele oor Sodom en Gomorra moet simbolies opgeneem word, daarom hoef ek nie te vlug vir my lewe nie. As dit wél gebeur, dan moet die Here ons maar hier, te midde van die vlamme, bewaar”?

Die komende oordele van die groot verdrukking is ‘n vaste Bybelse feit wat letterlik in vervulling sal gaan. Net so letterlik sal daar ‘n ontvlugting vir die kinders van God wees. Ons moet dié belofte aanvaar en hiervoor gereed wees. Die groot verdrukking van sewe jaar moet nie verwar word met die verdrukking wat Christene in ‘n sondige wêreld as gevolg van hulle geloof ervaar nie. Die groot verdrukking is God se oordele oor ‘n Christus-verwerpende wêreld. Die ware gelowiges is glad nie hiervoor bestem nie (Joh. 5:24; 1 Thess. 5:9).

9. Dit is ‘n oproep om voor die regterstoel van Christus te verskyn

Om vir die wegraping gereed te wees met betrekking tot dit wat aan die eindpunt van die reis op ons wag, behels verskeie sake. Een daarvan is om voor die regterstoel van Christus te verskyn. Die vooruitsig op die wegraping konfronteer jou baie duidelik met die verantwoordelikheid om rekenskap van jou lewe ná bekering voor Jesus Christus te gee. Paulus sê:

“Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10). “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:12).

Ons moenie aan die wegraping in isolasie, as net ‘n reis, dink nie. Dit is ‘n middel tot ‘n baie heerlike doel. Ons weet nou waarom ons van die aarde af weggeneem gaan word, maar ons moet ook grondig voorberei word vir dit wat aan die einde van die reis in hemelse plekke op ons wag. Die heel eerste afspraak wat ons het nadat ons die Here Jesus in die lug ontmoet het, is om voor die regterstoel van Christus te verskyn.

Omdat net Christene deel aan die wegraping sal hê, is dit ook net Christene wat voor die regterstoel sal verskyn. In 1 Korinthiërs 3:11-15 lees ons dat die Here ons lewe ná bekering gaan beoordeel en genadeloon volgens ons werke toeken. Ons is sy diensknegte, en Hy gaan kyk of ons ons werk behoorlik gedoen het.

Ons word duidelik nie deur ons werke gered nie, maar dit vorm die basis vir genadeloon. Sommige diensknegte het hulle talente goed gebruik en sal baie loon ontvang. Ander het dit minder produktief gebruik en sal minder loon ontvang; en daar sal selfs diegene wees wat hulle talente begrawe het en met leë hande voor die Here sal staan – gered asof deur vuur heen!

Die volgende is die vyf krone waarvoor Christene hulleself in die diens van die Here kan beywer:

·         Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewenswandel (1 Kor. 9:24-25);

·         die kroon van roem vir sielewenners (1 Thess. 2:19);

·         die kroon van heerlikheid vir getroue herders wat nie deur selfsug gemotiveer was nie (1 Pet. 5:2-4);

·         die kroon van die lewe vir Christenmartelare en almal wat swaar beproef is (Op. 2:10); en

·         die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefgehad en in die lig daarvan geleef het (2 Tim. 4:8).

10. Dit is ‘n reis na die hemelse bruilof

Ná die verskyning voor die regterstoel van Christus word die bruid met haar hemelse Bruidegom verenig om nooit weer van Hom geskei te word nie. Die brandende begeerte na die wegraping is dus terselfdertyd ‘n begeerte om by die bruilof van die Lam te wees en met veelkleurige gewade wat met gouddraad geborduur is, na Hom gelei te word in ivoorpaleise (Ps. 45:10, 14-16). Deur die wegraping word jy ook vir hierdie heerlike geleentheid weggeneem. Volgens die gelykenis van die tien maagde kan diegene wat té laat wakker skrik, nog steeds hulle saak met die Here regmaak, maar hulle sal die feit in die gesig moet staar dat hulle die wegraping misgeloop het. Vir hulle sal die donker nag van die groot verdrukking wag, waarin hulle as martelare vir hulle geloof sal moet sterf.

11. Dit is ‘n reis na ons ewige tuiste

Die Here Jesus het beloof dat Hy sal terugkom om sy bruid te kom haal en na haar hemelse tuiste te neem. Voor sy hemelvaart het Hy gesê:

“Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:2-3).

Hierdie woning in die hemel is só wonderskoon dat dit nie in menslike woorde beskryf kan word nie. Die Bybel sê: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9).

Die nuwe Jerusalem het pêrelpoorte, strate van deurskynende goud, en ‘n muur rondom wat van die kosbaarste edelgesteentes gebou is. Om na só ‘n plek weggevoer te word, is inderdaad ‘n blye vooruitsig!

12. Dit lei na die aanvaarding van ons regterlike en koninklike posisie

Die verheerlikte Christene sal ná die wegraping saam met Christus die wêreld oordeel in geregtigheid en daarna as konings saam met Hom hier op aarde regeer. In Openbaring 4 en 5 word die verheerlikte kerk as 24 bekroonde ouderlinge voorgestel:

“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).

Gevolgtrekking

Sien u hoe aktueel die wegraping vir elke Christen is, hoe dramaties die gebeure is wat daarmee saamhang, en hoe oor en oor die moeite werd dit is om hiervoor gereed te wees? Die Christendom sal geestelik verarm word as hierdie belofte, en al die verantwoordelikhede wat dit meebring, nie duidelik verkondig word nie. Sonder die Bybel se profetiese perspektief op die eindtyd sal ons in die duisternis van onkunde rondtas en nie ons prioriteite reg bepaal nie (2 Pet. 1:19).

Terwyl ons die naderende voetstappe van die Here Jesus kan hoor, moet ons baie seker maak dat ons inderdaad aan Hom behoort, anders sal Hy by ons verbygaan wanneer Hy sy kinders kom haal. Die ongeredde naamchristene wat nooit ‘n ontmoeting met die Here Jesus gehad het nie, en net ‘n gedaante van godsaligheid het, sal tevergeefs eendag voor die groot wit troon op hulle kerklike ampte, wonderwerke en ‘bevrydingsbedienings’ roem. Selfs die Nuwe Afrikaanse Bybel met sy baie verdraaiings en weglatings (waarin die belofte oor die wegraping uit Lukas 21:36 wegvertaal is), laat hierdie waarskuwing oor valse godsdiens baie duidelik deurkom. Dit is veral teen valse leraars gerig:

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die konninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Matt. 7:21-23 NAV).

Dit hoef egter nie so te wees nie. As ons harte deur die wedergeboorte verander is en ook deur die vervulling met die Heilige Gees brandend vir die Here is, sal ons waardig wees om die hemelse Bruidegom te ontmoet wanneer Hy in die middernaguur kom. Hy het aan sy dissipels gesê: “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag… Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of die derde nagwaak kom, en dit so vind – gelukkig is daardie diensknegte” (Luk. 12:35-38). Wees elke dag gereed vir sy skielike koms!

Betekenis van die Wegraping

Die belofte van die wegraping is uit verskillende oogpunte hoogs betekenisvol:

Goeie nuus in die profesieë

Die wegraping is die goeie nuus in ‘n andersins donker toneel van eindtydse profesieë oor rampe en oordele wat met die dag van die Here gepaard sal gaan. Indien die belofte van die wegraping verswyg word, sou Christene net donker vooruitsigte oor die Antichris en die sewe jaar lange verdrukking gehad het. Só ‘n situasie sou vergelyk kon word met die sondvloed sonder die ark, of die vernietiging van Sodom en Gomórra sonder ‘n ontsnappingsroete vir Lot en sy gesin. Mense wat die belofte van die wegraping verwerp, openbaar ‘n baie onverskillige houding. Wat sou jy daarvan sê as Noag soos volg geredeneer het?: “God is ‘n liefdevolle God en ek kan nie glo dat Hy die mensdom deur ‘n watervloed sal ombring nie, daarom gaan ek nie ‘n ark bou om verdelging in die vloed te ontvlug nie.” Of wat sou van Lot en sy gesin geword as hy gesê het: “Ek dink dat die oordele oor Sodom en Gomorra simbolies opgeneem moet word, daarom hoef ek nie te vlug vir my lewe nie. As die oordele wél kom, dan moet die Here ons maar te midde daarvan bewaar.”

‘n Situasie van hierdie aard sou nie alleen hoogs demoraliserend wees nie, maar ook in stryd met die duidelike Bybelse beginsel dat gelowiges nooit die voorwerpe van God se toorn is nie: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1). Die wegraping is deel van die goeie nuus van die evangelie van Jesus Christus. Hy het na die sonde-deurdrenkte wêreld gekom om die volle prys vir die redding van sondaars te betaal. Daarna is Hy terug hemel toe om ‘n plek vir ons te gaan berei. Hy het beloof om weer terug te kom en ons te kom haal en na ons hemelse tuiste te neem. As ons in Hom bly, sal ons waardig wees om die gruwels van die komende verdrukking deur middel van die wegraping te ontvlug. Ons hoef dus nie tot wanhoop gedryf te word deur die kennis van dit wat oor die wêreld gaan kom nie. Vir die ware gelowiges is daar ‘n wonderlike boodskap van goeie nuus in die profesieë!

Diegene wat nie hierdie goeie nuus ter harte neem en vir die wegraping gereed maak nie, sal alles verloor en vreesbevange in die groot verdrukking na die berge en rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam, want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17). Hulle sal tevergeefs vir die toorn van God probeer wegvlug as hulle weier om tot bekering te kom.

‘n Korrekte toekomsverwagting

Die geloof in ‘n voor-verdrukking-wegraping gee aan jou die versekering dat jy ‘n korrekte, Bybelse toekomsverwagting het. Dit word deur geen ander Bybelse waarhede weerlê nie. Hierdie ingesteldheid eer die Here Jesus en erken Hom as die sleutelpersoon in die profesieë, “want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Christene se aandag moet op Hom gevestig bly. Hulle moet sý skielike verskyning verwag, en nie dié van die Antichris nie. Diegene wat Hom verloën, sal almal met die wegraping agterbly. Die enigste rede waarom hulle aan die diktatuur van die Antichris oorgelewer sal word, sal wees omdat hulle die verlossing wat die ware Christus aan hulle gebied het, geminag en verwerp het. Wat hulle op aarde sal beleef, sal die direkte gevolg wees van die seëls van God se oordele wat die Lam in die hemel sal breek. Moet dus nooit Jesus Christus se sentrale plek in die Bybelse profesieë misken nie. Om sy spoedige koms te verwag en jou lewe dienooreenkomstig in te rig, is ‘n opdrag wat bedoel is om ‘n positiewe motivering aan Christene van alle eeue te verleen.

Die regte bepaling van werke

Die verwagting van die koms van die Here Jesus voor die verdrukking, rig jou werke en optrede in die regte rigting. Jy berei vir sý koms voor, en nie vir dié van die Antichris nie. Die konsep van die wegraping konfronteer jou uitdruklik met die verantwoordelikheid om direk ná die wegvoering rekenskap van jouself voor die regterstoel van Christus in die hemel te gee (2 Kor. 5:10; Rom. 14:12). Indien jy die moontlikheid van Christus se spoedige koms uit die gesig verloor en nie meer daarvolgens leef nie, kan jy in oorgerustheid, geestelike passiwiteit en selfs in sonde verval (Matt. 24:48-51).

Beveiliging teen materialisme

Die feit dat ons werke ná die wegraping beoordeel gaan word, en net dít met ewigheidswaarde beloon sal word, is ‘n belangrike feit om in gedagte te hou. Dit help ons om doelstellings na te streef wat hoër as die materialistiese en verganklike dinge van hierdie wêreld is. Paulus sê dat nadat die fondament van bekering in ons lewens gelê is, ons die vrug van die Heilige Gees moet dra en nie nuttelose, materialistiese werke moet doen nie (1 Kor. 3:10-15). Ons moet dus oppas dat ons nie met leë hande voor die Here verskyn nie.

Christene wat aan ‘n voor-verdrukking-wegraping glo, hou hulleself nie met oorlewingstrategieë besig in voorbereiding op die verdrukking onder die bewind van die Antichris nie. Hulle hou hulleself met die Groot Opdrag besig, soos wat die Here Jesus self gedoen het: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Genadetyd gaan verby en ons moet nou alles in die stryd werp.

‘n Motivering vir heiligheid

Een van die sterkste motiverings wat die belofte van die wegraping in ‘n Christen se lewe vestig is dié van heiligmaking. As lede van die bruidsgemeente moet ons onsself toewy aan die uitdaging om as rein maagde aan die hemelse Bruidegom voorgestel te word (2 Kor. 11:2-3). Dit plaas ‘n duidelike verantwoordelikheid van waaksaamheid op ons sodat die Bose nie toegelaat sal word om ons gedagtes en lewens te besoedel nie. Ons verkry nie die standaard van heiligmaking deur menslike pogings nie, want Christus is ons heiligmaking: “Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig… sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees: (Ef. 5:25-27).

Ons moet onsself heelhartig hieraan oorgee en die heiligmaking in die vrees van God volbring (2 Kor. 7:1). Die Here Jesus het dit alles vir ons aan die kruis en deur die uitstorting van die Heilige Gees moontlik gemaak, maar ons moet dit aanvaar, daarin wandel, ons in die godsaligheid oefen, ten bloede toe teen die sonde weerstand bied en met volharding die wedloop loop wat voor ons is, die oog gevestig op Jesus wat die Leidsman en voleinder van ons geloof is. Dan sal ons nooit veragter in die genade, ons visie en roeping verloor en van die weë van die Here afvallig raak nie.

Hoop in toetse en beproewings

In die skadu’s van toetse, beproewings en vervolging, wanneer die hoop op ‘n gelukkige aardse lewe vervaag, is die vooruitsig op die wegraping altyd ‘n lig aan die einde van ‘n donker tonnel. Deur ontelbare sorge en lyding het miljoene mense in die geloof aan die belofte van die wegraping en ons vereniging met die Here vasgehou. Dit het aan hulle krag gegee om te volhard terwyl hulle die dinge van hierdie wêreld, en selfs hulle eie lewe, as niks beskou het om Christus en die ewige lewe as wins te verkry. Skep dus moed, rig jou neergeboë gees op, verwag die Here en weet dat jou toekoms in veilige hande is. Hy sal ons kom haal om sy ewige heerlikheid te beërf. Dáár ”sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Op. 21:4).

‘n Bestemmingsbewustheid

Soos Abraham en ander geloofshelde moet ons onsself as vreemdelinge en bywoners in hierdie donker wêreld beskou wat in die mag van die Bose lê. Ons toekoms is nie hier nie, daarom moet ons altyd ‘n vergesig hê van die stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is (Heb. 11:10). In ons pelgrimsreis deur die wêreld moet ons altyd ‘n sterk bestemmingsbewustheid hê omdat ons na die nuwe Jerusalem op pad is. Wanneer die Here met die wegraping uit die hemel neerdaal, sal ons Hom tegemoet gaan in die lug en na ons ewige tuiste in die Godstad weggevoer word.

Ons moet waak daarteen om oormatiglik met hierdie wêreldstelsel te identifiseer en in sy materialisme en geestelike verdorwenheid een daarmee te word. Dit beteken nie dat ons swak gemotiveerde mense sonder doelstellings is terwyl ons hier is nie. Inteendeel – ons moet produktiewe lewens lei en die Here verheerlik in alles wat ons doen. Die wêreld moet ons as hardwerkende mense met integriteit ken, daarom moet ons ‘n verskil ten goede in ons omgewing maak. Ons hoofdoel bly egter om die lof te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Die meeste mense wandel weens hulle vormgodsdiens steeds in geestelike duisternis, daarom moet ons toesien dat ons altyd deur ons getuienis vir hulle die lig van ‘n donker wêreld is.

Terwyl ons ons plig as getuies van Christus uitvoer, moet ons voortdurend die blink môrester verwag wat nét voor die einde van die nag bokant die donker horison van ‘n troebel en onrus-geteisterde wêreld sal verskyn. Die boodskap van die môrester is dat die nag ver gevorder het en dat dit amper dag is. Voordat die Here Jesus met sy sigbare wederkoms as die Son van Geregtigheid sal kom wanneer elke oog Hom sal sien, sal Hy onopsigtelik as die Blink Môrester kom om sy bruidsgemeente in die lug te ontmoet.

 

14. Groot Afval ná die Christene se Vertrek

Daar word baie oor die wegraping en die openbaring van die Antichris gespekuleer. Sommige mense vergeestelik hierdie begrippe, ander ontken dit of beweer dat die Antichris een of ander historiese figuur was, terwyl sommiges dit wél aanvaar maar die twee gebeurtenisse in die verkeerde volgorde plaas.

Hierdie teenstrydige standpunte lei na groot onsekerheid en verwarring onder baie Christene. Dit is nie die eerste keer in die geskiedenis dat botsende standpunte en selfs paniek onder gelowiges ontstaan as gevolg van verkeerde leringe oor die eindtyd nie. Dit het reeds in die eerste eeu in die gemeente van Thessalonika gebeur. Paulus het in sy eerste brief aan die gemeente verduidelik dat die Here Jesus die ware gelowiges aan die einde van die kerkbedeling sal kom haal:

“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18 – die populêre term wegraping is van die woord wegvoering [Grieks harpazo] in vers 17 afgelei).

In Paulus se prediking in Thessalonika, asook in sy brief daarna, het hy aan die gemeente gesê dat die Here Jesus die Christene vóór die openbaring van die Antichris en die oordele van die dag van die Here tydens die groot verdrukking sal kom haal. Hy het hulle geleer om God se “Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10). “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus” (1 Thess. 5:9).

Vir die Christene is daar dus, soos in die tyd van Noag en Lot, verlossing en uitredding uit die uur van God se oordele oor ‘n sondige wêreld. Deur die wegraping sal hulle dit ontvlug, soos wat Jesus ook in sy profetiese rede aangedui het: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Die soekers na ‘n valse, humanistiese vrede buite Christus sal egter nie die komende oordele van die verdrukking ontvlug nie. Hulle sal deur die skielike verderf van die Antichris se openbaring en God se oordele oorval word (1 Thess. 5:3).

Die gemeente in Thessalonika het hierdie uiteensetting van eindtydse gebeure geglo en reikhalsend na die beloofde uitredding uitgesien wat die Here Jesus deur die wegraping aan sy ware dissipels gebied het. Hulle het volgens Titus 2:13 ‘n “salige hoop” gehad om na uit te sien en mekaar in die lig daarvan bemoedig om getrou aan die Here te bly totdat Hy kom.

Valse gerugte

Die vervolging wat die Christene in die Romeinse Ryk verduur het, het tot groot benoudheid en baie vrae aanleiding gegee – ook in Thessalonika. Onder die aanstigting van vyande van die evangelie van Christus, asook deur mense wat sogenaamde “openbaringe” gehad het, is in die naam van Paulus ‘n vervalste brief aan die gemeente geskryf waardeur verwarrende leringe oor die wederkoms versprei is. Hierin is beweer dat die dag van die Here (die tyd van oordele en verdrukking) reeds aangebreek het en dat die Christene déúr dit sou moes gaan. Die leer oor die wegraping van gelowiges vóór die verdrukking is hierdeur weerlê en bespotlik gemaak.

Paulus skryf sy tweede brief aan die gemeente met die volgende twee oogmerke: (1) Om die valse gerugte oor die eindtyd te weerlê, en (2) om sekere vrae wat hy van gemeentelede oor die wederkoms van Christus en sekere ander sake ontvang het, te beantwoord. In hoofstuk 2 spreek hy homself spesifiek ten opsigte van “die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom” uit, m.a.w. die wegraping. Daarna verstrek hy die regte volgorde van eindtydse gebeure:

“Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees – asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval [die vertrek] kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:1-12).

Paulus konstateer in hierdie gedeelte duidelik die basiese feite omtrent die vertrek van die teëhouer, die openbaring van die Antichris, en sy verdelging deur die wederkoms van Christus.

Weerlegging van wanopvattings

Die wanopvattings wat na aanleiding van die valse gerugte in Thessalonika posgevat het, was dat die Antichris reeds in die gedaante van die Romeinse keiser gekom het, wat homself inderdaad ook vergoddelik het. Die gepaardgaande verdrukking van die Christene is as die oordele van die dag van die Here beskou. Paniek het ontstaan oor die verwagting van groter vervolging en oordele wat sou volg, asook oor die feit dat die Here nie, soos Paulus gesê het, die Christene voor die tyd van oordele en benoudheid kom haal het nie.

Paulus herbevestig aan die gemeente dat daar éérs ‘n vertrek (apostasia) moet plaasvind, daarna sal die mens van sonde en seun van die verderf (die Antichris) geopenbaar word. Wanneer hy gekom het, sal hy homself in die tempel van God (in Jerusalem) tot God verklaar. Dit het in daardie stadium nog nié gebeur nie (2 Thess. 2:3-4).

Hierna herhaal Paulus die volgorde van eindtydse gebeure en verstrek terselfdertyd meer besonderhede oor wat in daardie tyd sal gebeur. Hy herinner die gemeente ook aan sy preke wat hy hieroor gelewer het: “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?” (2 Thess. 2:5). Vanaf vers 6 sê hy dat éérs moet die teëhouer uit die weg geruim word (die wegraping), dán sal die ongeregtige (die Antichris) geopenbaar word. Die Antichris sal nog ‘n lewende persoon op aarde wees wanneer Christus hom deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.

Daar was dus geen bestaansreg vir die valse gerugte in die naam van Paulus dat daar nie ‘n wegraping voor die verdrukking is nie. Daar het ook geen waarheid in die bewerings gesteek dat die Here die Christene aan die tirannie van die Antichris sou uitlewer en hulle saam met die sondaars sou straf nie.

Die vertrek (apostasia)

Een woord in 2 Thessalonicense 2:3 wat vir sommige mense probleme skep, is dié een wat in ons Bybel as “afval” en in die King James Version as “falling away” vertaal is. In die lig hiervan word beweer dat ons eers die groot afval van die laaste dae en die daaropvolgende openbaring van die Antichris moet beleef, dán sal die Here ons een of ander tyd gedurende die verdrukking kom haal. Dit is egter hoegenaamd nie die geval nie.

Die betrokke Griekse woord is “apostasia.” Dit beteken vertrek, wegname of skeiding. As ‘n afgeleide betekenis kan dit ook as afvalligheid vertaal word, maar met die duidelike bedoeling dat wanneer die waarheid vertrek het, dan tree die goddeloosheid in. “Apostasia” is van die partikel “apo” afgelei wat beteken weg (van iets wat naby is). Hiermee kan ‘n plek, ‘n tyd of ‘n verhouding bedoel word. Dit kan dus skeiding, vertrek of die verbreking van ‘n verhouding beteken.

Die werkwoordsvorm van “apostasia” is “aphistemi” wat vertaal kan word as vertrek, wegneem, weggaan, onttrek, wyk, skei of wegval.

In drie van die dertien keer waar die werkwoord “aphistemi” in die Nuwe Testament voorkom, dui dit op geloofsverval, m.a.w. die verskynsel dat mense uit hulle geloof wegval. Hierdie tekste is die volgende (telkens word die King James-weergawe ter wille van groter duidelikheid ook aangehaal):

·        Luk. 8:13. “…in die tyd van versoeking val hulle af.” (“…and in time of temptation fall away”).

·        1 Tim. 4:1. “…van die geloof afvallig sal word…” (“…depart from the faith”).

·        Heb. 3:12. “…van die lewende God afvallig word…” (“…departing from the living God”).

In die ander 10 gevalle kom “aphistemi” se grondbetekenis van skeiding of vetrek baie duidelik uit:

·        Luk. 2:37. “Sy het nie weggebly van die tempel nie…” (“…[she] departed not from the temple”).

·        Luk. 4:13. “…het hy ‘n tyd lank van Hom gewyk.” (“…he departed from Him for a season”).

·        Luk. 13:27. “Gaan weg van My…” (“Depart from Me…”).

·        Hand. 12:10. “…die engel [het] hom verlaat.” (“…the angel departed from him”).

·        Hand. 15:38. “…wat… hulle verlaat het” (“…who departed from them”).

·        Hand. 19:9. “…het hy van hulle weggegaan” (“…he departed from them”).

·        Hand. 22:29. “…[hulle het] hom dadelik laat staan” (“…they departed from him”).

·        2 Kor. 12:8. “…dat hy van my sou wyk” (“…that it might depart from me”).

·        1 Tim. 6:5. “Onttrek jou aan sulke mense.” (“…from such withdraw thyself”).

·        2 Tim. 2:19. “…afstand doen van die ongeregtigheid” (“…depart from iniquity”).

In die lig van die voorbeelde hierbo is dit duidelik dat die grondbetekenis van die woord “apostasia” en sy werkwoord “aphistemi” duidelik vertrek (Eng. depart) is. Dit is die rede waarom “apostasia” in 2 Thess. 2:3 in die volgende sewe Engelse Bybels voor die King James Version van 1611 as departing first vertaal is: Wycliffe Bible, 1384; Tyndale Bible, 1526; Coverdale Bible, 1535; Cranmer Bible, 1539; Breeches Bible, 1576; Beza Bible, 1583; en die Geneva Bible, 1608.

Die Vulgaat gebruik die Latynse woord “discessio” wat “die vertrek” beteken. Die Amplified Bible erken dié betekenis in ‘n voetnota oor “afvalligheid”: “A possible rendering of apostasia is departure [of the church].” 2 Thessalonicense 2:3 se volle betekenis is dus:

“…eers moet die vertrek [van die kerk] plaasvind en die mens van sonde [die Antichris] geopenbaar word, die seun van die verderf…” (2 Thess. 2:3).

Botsende sienings

Die botsende sienings van ons tyd het nie so seer met onkunde oor die betekenis van “apostasia” te doen as wat dit met dogmatiese vooroordele te doen het nie. So baie mense wil (in blinde navolging van hulle kerke se teoloë) net eenvoudig nie in ‘n wegraping voor die openbaring van die Antichris glo nie, daarom vereng hulle “apostasia” se betekenis tot slegs geestelike afvalligheid en niks meer nie.

‘n Eerlike en bybelgetroue uitleg van 2 Thess. 2:3 is dat “apostasia” in die volle omvang van sy betekenis bedoel word – beide wat vertrek en die geestelike verval daarna betref. Die woord moet dus nie tot sy afgeleide betekenis van “afvalligheid” beperk word nie.

Paulus verwys hier na die fisiese vertrek van die ware gelowiges wat nie vir God se toorn bestem is nie. Die gevolg hiervan sal wees dat die Antichris geopenbaar word en veroorsaak dat sonde en ongeregtigheid op aarde sal floreer. Die grootste wegval uit Christelike standaarde en Bybelse norme van alle tye sal tydens sy bewind plaasvind.

Paulus stel dus eers die feit van die wegraping, die openbaring van die Antichris en sy goddelose hervormings in vers 3-4, en herhaal dan dié volgorde met die byvoeging van verdere besonderhede in vers 6-12:

Die wegraping: Eers sal die apostasia [die vertrek] plaasvind (v.3).

Die wegraping: Hy wat nou teëhou sal uit die weg geruim word (v. 7).

Koms van die Antichris: Die mens van sonde word dan geopenbaar (v. 3).

Koms van die Antichris: Dan sal die ongeregtige geopenbaar word (v. 8).

Verval deur goddelose hervormings: Die Antichris sal sonde en verderflikheid aanmoedig en homself in die tempel tot God verklaar (v. 3-4).

Verval deur goddelose hervormings: Sy koms, in uiterste ongeregtigheid, sal wees volgens die werking en krag van Satan (v. 8-10).

Die teëhouer

Negatiewe houdings oor die wegraping voor die verdrukking lei ook na skewe sienings oor die teëhouer van die Antichris. Daar is duidelik net een mag wat sterker as dié van Satan en die Antichris is, en dit is die mag van God. Daar is geen aardse of menslike mag wat teen Satan bestand is nie.

In die huidige bedeling, voor die persoonlike openbaring van Christus en die Antichris, is daar ‘n geestelike stryd vir heerskappy op die aarde aan die gang. Die Gees van God en die verleidende geeste van Satan werk deur mense om hulle doel te bereik. Johannes sê:

“Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is… Hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling” (1 Joh. 4:2-6).

Die uitdrukking “hy wat nou teëhou” (2 Thess. 2:7) word in kleinletters geskryf en verwys na die kerk as die liggaam van Christus op aarde. Ons is die tempel waarin die Heilige Gees woon, en daarom is ons die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde. Ons hou deur die krag van die Heilige Gees die openbaring en magsoorname van die Antichris teë. Eers wanneer die ware kerk deur middel van die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris as persoon geopenbaar kan word. Hy sal dan sonder teëstand deur ‘n geestelik dooie en misleide mensdom as hulle gemeenskaplike messias en wêreldleier aanvaar word.

Dit is onbybels om te beweer dat die Heilige Gees die teëhouer is wat van die aarde af weggeneem word. Dit is wél deur die krag van die Heilige Gees dat die kerk die Antichris kan teëstaan, maar die Heilige Gees self word nie weggeneem nie.

Miljoene siele gaan in die sewe jaar lange verdrukking gered word (Op. 7:9-14), en dit is net deur die bemiddeling van die Heilige Gees moontlik (1 Kor. 12:3). Voor die sigbare koms van Jesus aan die einde van die sewe jaar sal daar selfs ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees oor Israel wees om hulle op hul versoening met die Messias voor te berei:

“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10).

Dit is dus heeltemal verkeerd om te beweer dat die Heilige Gees van die aarde af weggeneem sal word. Omdat die kerk weg is, sal die Gees nie meer in sy pinkstervolheid werksaam wees nie, maar Hy sal nogtans hier wees as die Gees van strafgerig (Jes. 4:4) en die Gees wat mense van sonde oortuig (Joh. 16:8).

Aard van die afval

Die afval wat ná die openbaring van die Antichris op aarde sal plaasvind, sal baie erger as die afvalligheid van die laaste dae voor die wegraping wees (vgl. 1 Tim. 4:1, 2 Tim. 3:1-5 en 4:2-4). Wanneer die Antichris gekom het, sal die hele aarde in morele en geestelike duisternis gedompel word. Uit die morele verval sal ‘n internasionale sonde-kultuur gestalte aanneem waarin die ergste denkbare immoraliteit, normloosheid, korrupsie, diefstal en wreedheid sal voorkom.

Die geestelike verval sal na die skepping van ‘n misleide alliansie van wêreldgodsdienste lei, waarvan die Antichris die gemeenskaplike messias sal wees. Op ‘n gegewe oomblik sal hy die herboude tempel in Jerusalem betree en homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Saam met hom sal die duiwel aanbid word (Op. 13:4) en dit sal die ergste vorm van geestelike verval wees.

Eindtydse Antichris

Nog ‘n baie duidelike stelling wat Paulus oor die Antichris maak, is dat hy ‘n eindtydse wêrelddiktator sal wees. Sy openbare optrede sal deur die wederkoms van Jesus beëindig word: “…hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:8).

Hierdie duidelike stelling sluit alle historiese diktators en godsdiensleiers uit. Hulle was net antichriste in die kleine maar nie die finale, eindtydse Antichris nie. Johannes sê: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste” (1 Joh. 2:18).

Neem ook die volgende uitsprake oor die Antichris in ag: In Daniël 9:27 word gesê dat hy vir een jaarweek (van sewe jaar) met baie nasies ‘n sterk verbond sal sluit. In die middel van die week, m.a.w. ná 3½ jaar, sal hy die offerdiens in die tempel in Jerusalem laat staak en ‘n verwoestende skrikbewind instel (Dan. 9:27). Hy sal die tempel ontheilig, ‘n gruwelike afgodsbeeld van homself daarin laat oprig en alle godsdienste ter wille van die aanbidding van homself afskaf (Dan. 11:31, 36). Jesus Christus het hierna verwys toe Hy van die groot verdrukking pas voor sy wederkoms gepraat het:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judea is na die berge vlug… Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie… En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:15-30).

Op daardie dag sal die Antichris en die valse profeet lewendig verdelg word:

“En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Op. 19:19-20).

Die profesieë oor die verskyning van die Antichris is dus nog steeds toekomstig en nie histories nie. Daar was reeds baie wegbereiders, maar nou het die oomblik vir die verskyning van die groot eindtydse Antichris aangebreek – hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg wanneer Hy met sy wederkoms sy voet op die Olyfberg sit (Sag. 14:4-5).

Die toneel word nou vinnig vir die verskyning van die Antichris voorberei. Ons beleef reeds die afvalligheid van die einde van die kerkbedeling en die begin van die smarte op aarde. Weldra sal die uur van skeiding aanbreek wanneer die weergebore kinders van die Here weggevoer sal word na hemelse plekke. Dan sal die teëhouers teen die verskyning van die Antichris uit die weg geruim wees, en sal die uur van groot duisternis op aarde aanbreek. Onder die leiding van die mens van sonde, wat Satan se regeerder oor ‘n blinde en misleide mensdom sal wees, sal sonde, ongeregtigheid, afgodsaanbidding en Satanisme ongekende afmetings aanneem. Die Here sal hierdie goddelose geslag, soos in die tyd van Noag en Lot, met groot oordele besoek.

 

15. Die Regterstoel van Christus

In Openbaring 4 en 5 is die 24 ouderlinge met die krone op hulle hoofde ‘n voorstelling van die verheerlikte kerk van Christus ná die wegraping. Hulle identifiseer hulleself bo enige twyfel wanneer hulle in aanbidding voor die Lam neerval en Hom as Verlosser bely: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie" (Op. 5:9).

Hulle is die bloedgewaste kinders van die Here uit alle volke, en het deur die opstanding van die regverdiges hulle verheerlikte liggame ontvang. As lede van die liggaam van Christus sit hulle rondom die troon om saam met Hom die wêreld in die verdrukking te oordeel (1 Kor. 6:2).

Die simboliek wat hier gebruik word om die bruidsgemeente van die Here Jesus mee uit te beeld, is baie paslik. Ouderling is ‘n Nuwe Testamentiese amp en veronderstel nie alleen iemand wat deur die genadewerk van Christus verlos is nie, maar ook iemand wat die opdrag tot dissipelskap en arbeid in die oeslande van die Here ernstig opgeneem het.

Die getal 24 is ook betekenisvol. In 1 Kronieke 24 het koning Dawid 24 familiehoofde aangewys om die priesterlike dienswerk in die tempel te verrig. Elke groep sou in ‘n vaste siklus vir twee weke per jaar aan diens wees. Die 24 families het dus al die priesters ingesluit wat die Here gedien het. In 1 Petrus 2:9 word alle gelowiges in die Nuwe Testament beskryf as ‘n heilige priesterdom “om te verkondig die deugde van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.” Die 24 ouderlinge sluit al die ‘priesters’ van die Here uit elke stam en taal en volk en nasie in.

Goue krone

Die 24 ouderlinge het almal krone op hul hoofde, wat daarop dui dat hulle by die regterstoel van Christus genadeloon ontvang het: “En rondom die troon was daar 24 trone, en op die trone het ek die 24 ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad” (Op. 4:4). Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 943) sê die volgende oor hierdie krone: “The crowns were similar to those given victors in Greek games (stephanos), in contrast with the crown of a sovereign ruler (diadema). The crowns seem to indicate that the leders had been judged and rewarded.”

Petrus sê die tyd is daar dat die oordeel in die huis van die Here moet begin (1 Pet. 4:17). Dit verwys na die oordeel oor die werke van gelowiges. Dit is waarom die Here Jesus sê: "Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12). Wanneer die Here kom, kom Hy om sy diensknegte te beloon en die sondaars te straf: “U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Op. 11: 18).

Die goue krone wat die verheerlikte kerk sal kry, kom in werklikheid die Lam toe, daarom word dit voor sy voete neergelê:

“[toe] val die 24 ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag…” (Op. 4: 10-11).

Alleen Hy is waardig om die eer te kry vir dit wat sy getroue diensknegte op aarde bereik het. Dit is deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees dat hulle vir die Here Jesus kon werk. Nogtans vra dit veel toewyding, gehoorsaamheid en volharding van hulle kant af, maar die genademiddels om hulle taak op aarde te kan verrig, kom alles van die Here af.

Hoewel die regterstoel-oordeel van Christus nie pertinent in Openbaring bespreek word nie, word dit as ‘n gegewe aanvaar, en is dit baie duidelik dat dit nét ná die wegraping sal plaasvind. Aan die martelaarsgemeente van Smirna sê Jesus: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Op. 2:10). Daar is dus ‘n spesifieke kroon wat hulle sal kry. Aan sy getroue getuies in afvallige Thiatire sê Hy: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26). By sy wederkoms sal Hy hulle dus beloon.

Aan die getroues in die dooie Sardis gemeente beloof Hy: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere” (Op. 3:5). Aan sy geliefde diensknegte wat Hom te midde van groot armoede en probleme in Filadelfia dien, sê Hy: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11). Hulle moet daarteen waak om terug te val. Deur hulle volharding tot aan die einde toe moet hulle waardig bly om krone te kan ontvang.

Oor hierdie gees van volharding op die pad van die Here het Johannes voor sy verbanning na Patmos aan die gemeentes geskryf:

“En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie" (1 Joh. 2:28).

Dit het toe al vir Johannes duidelik geword dat ernstige probleme en geestelike veragtering in Christelike gemeentes ingetree het. Die tweede geslag Christene was in die meeste gevalle nie meer op standaard nie. Baie van die oueres was  nie oorwinnaars nie en het ook veragter in die genade (Heb. 12:15). In só ‘n toestand sal hulle hul genadeloon verbeur, daarom die duidelike vermaning: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang (2 Joh. 1:8).

Die kinders van die Here het onteenseglik ‘n groot verantwoordelikheid om vir Christus se skielike koms en ons verskyning voor sy regterstoel gereed te wees!

Die afspraak

Alle Christene het ‘n afspraak voor die regterstoel van Christus, of hulle goeie diensknegte was of nie. Sommige sal loon ontvang, terwyl ander met leë hande daar sal staan. Die feit is dat die Here se diensknegte rekenskap van hulleself sal moet gee. Paulus sê aan die gemeente in Korinthe:

“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10).

Die woord “kwaad” kan ook met “nutteloos” vertaal word. Daar gaan baie werke van mense wees wat op dié dag nutteloos gaan blyk te wees omdat dit geen ewigheidswaarde het nie. Die Here Jesus sê aan elke gemeente: “Ek ken jou werke…” Hy gaan elkeen volgens sy werke vergeld, of dit goed is of nutteloos.

Aan die Christene in Rome rig Paulus dieselfde boodskap:

“…ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word… so sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee" (Rom. 14:10, 12).

Aan die Korinthiërs verduidelik Paulus in veel meer detail hoe die werke van gelowiges aan God se vuurproef onderwerp sal word. Hieruit blyk dit duidelik dat dit geloofswerke is wat ná bekering gedoen word omdat dit op die Rots, Jesus Christus, gebou word. Die werke van sommige Christene sal egter verwerplik wees omdat dit vleeslik is. In die lig hiervan toon Paulus aan dat ons as medewerkers van God ‘n besliste taak het om in sy koninkryk te verrig. Ons moet egter oppas hoe ons dit doen – nie in die krag van die vlees nie, maar in die krag van die Heilige Gees:

“Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:9-16).

‘n Paar sake is uit dié gedeelte baie duidelik:

·      Die fondament van bekering, wat die begin van ‘n nuwe lewe in Christus is, moet éérs in ons lewe gelê word voordat ons vir die Here kan begin werk.

·      Ná ons bekering het ons ‘n opdrag om vir die Here te werk deur ons lig in die wêreld te laat skyn en sy getuies te wees. Ons moet medewerkers van God in die uitbreiding van sy koninkryk op aarde wees.

·      Dit is nie vanselfsprekend dat ons altyd net aanvaarbare werke onder die leiding van die Heilige Gees sal doen nie, omdat ‘n Christen ook nuttelose dinge in die krag van die vlees kan doen (1 Kor. 3:1-3). Dié werke is die hout, hooi en stoppels wat nie ewigheidswaarde het nie en vir God verwerplik is.

·      Aan diegene wat onaanvaarbare werke in die vlees doen, word die vraag gevra: “Weet julle nie dat die Gees van God in julle woon nie? Hulle moet hulle lewens aan die beheer van die Heilige Gees oorgee en in sy krag die Here begin dien. Dit is standaard Christenskap.

Die Here Jesus het in ‘n gelykenis in Lukas 19: 11-27 ook na die dag verwys wanneer sy diensknegte rekenskap van hulle lewens sal moet gee. Hy sê dat Hy aan elkeen van hulle ‘n pond gegee het wat op die instaatstellende krag van die Heilige Gees dui, m.a.w. ‘n godgegewe werksvermoë in sy koninkryk.

Wanneer Hy as Koning terugkom, sal Hy heel eerste sy diensknegte ontbied om loon toe te ken ooreenkomstig die arbeid wat hulle verrig het. Aan dié een wat met sy pond tien ponde wins verdien het, sal Hy sê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19:17). ‘n Ander een kry gesag oor vyf stede, en die een wat sy pond begrawe het en met leë hande voor sy Heer verskyn, word sterk verwyt. Hy kry geen loon nie, alhoewel hy een van sy Heer se diensknegte was.

Die grondslag van beoordeling

Die Here het voor sy regterstoel ‘n afspraak met diegene wat aan Hom behoort. Uit die aard van die saak gaan hulle nie op grond van die aanwesigheid of afwesigheid van geloof in hulle lewe beoordeel word nie. Hulle is almal uit genade gered, deur die geloof, en dit is ‘n gawe van God. Omdat hulle almal glo, is die grondslag van hulle beoordeling iets anders, nl. werke van geloof. Dit is die werke wat uit ‘n lewende geloof móét voortvloei. Jakobus sê:

“Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood” (Jak. 2: 26).

Paulus stel dit in Efésiërs 2:8-9 duidelik dat ons deur geloof gered word, sonder werke. Niemand kan dus sy saligheid verdien deur daarvoor te werk nie. Redding is ‘n genadegawe van God. Nadat ‘n persoon egter gered is en ‘n gelowige geword het, word dit van hom verwag om ‘n lewe van godsvrug en goeie werke te lei. In die teks net ná redding uit geloof sonder werke, sê Paulus:

“Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Ef. 2:10).

Ons is tot ‘n lewe van goeie werke geroep wat God vir ons voorberei het.

Ons moet vrugte dra wat by die bekering pas. As daar nie vrugte in ons lewe is nie, is dit ‘n duidelike bewys daarvan dat ons ‘n dooie geloof het. ‘n Loot wat vrug dra, word skoongemaak sodat dit meer vrug kan dra. Ons lewens moet gereinig en deur die Gees vervul word, sodat ons meer vrug kan dra. Die loot wat geen vrug dra nie, word afgekap. Hy voldoen nie aan sy roeping nie, en is soos die saadjies wat in die vlak grond of tussen die die dorings beland het (Matt. 13:3-23). Só ‘n persoon het nog nie grondig verander nie en moet homself eerlik voor die Here verootmoedig.

Uit hierdie agtergrond behoort dit duidelik te wees dat die Here ons nie gaan beloon vir dit wat ons vír Hom gedoen het nie, maar net vir dit wat Hy déúr ons gedoen het. Ons is werktuie in sy reddende regterhand. Wat ons doen, moet deur die krag van sy Heilige Gees wees. Ek moet nie my eie kop volg nie, maar die Here raadpleeg en ken in al my weë. As ek wil praat, moet ek deur Bybelstudie en gebed eers die boodskap by die Here kry, sodat ek kan sê: “So spreek die Here.”

My lewe moet ook rein en heilig wees, anders sal die Here my nie gebruik nie. Die Here gebruik nie vleeslike en wêreldsgesinde mense as sy medewerkers nie. As hulle nie na hulle eerste liefde terugkeer nie, neem Hy hulle kandelaar van hulle af weg, soos wat Hy dit ook van ‘n hele gemeente af kan wegneem wat Hom mishaag. Hy sal dan iemand anders kry om te gebruik.

Krone

Die Here sê dat Hy sy kinders se werke ken, en aan hulle genadeloon sal gee wanneer Hy weer kom. Kort nadat ons met die wegraping en die eerste opstanding ons verheerlikte liggame gekry het, sal ons ook by die regterstoel van Christus krone vir getroue diens kry. Ons moet onsself beywer om dié weke te doen wat vir die Here behaaglik is en waarvoor hy ook krone sal toeken. Dan weet ons dat ons lewe op aarde nie tevergeefs was nie, maar deur die krag van die Heilige Gees werke opgelewer het wat ewigheidswaarde het. Ons sal dan ook die stem van die Here hoor wat sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg. Oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou Heer.”

Die volgende vyf krone word aan die oorwinnaars beloof:

1. Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewe

Daar is bepaalde reëls wat ons in die wedloop van die lewe moet eerbiedig indien ons oorwinnaars wil wees wat iets konkreets vir die saak van die Here bereik. Na analogie van atlete se toewyding het Paulus die volgende gesê:

"Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle dit sekerlik kan behaal. En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles – hulle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike. Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie" (1 Kor. 9:24-27).

Die atlete sorg dat hulle gesond bly, hulle rook of drink nie en eet reg. In die wedloop van die lewe moet jy jouself ook van alle skadelike [sondige] gewoontes weerhou wat jou vordering kan vertraag: “…laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Heb. 12:1).

Toewyding van hierdie aard gaan met hartsreiniging en die vervulling met die Heilige Gees gepaard: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Dit vereis selfdissipline, daarom oefen ek myself in die godsaligheid (1 Tim. 4:7) en kasty my liggaam om dit diensbaar te maak. Hiervoor sal ek ‘n onverwelklike kroon ontvang – nie, soos die atlete, net ‘n verwelklike lourierkrans en ‘n kort oomblik van glorie nie.

Daar is baie terreine in die koninkryk van die Here waarop ‘n Christen homself kan diensbaar maak. Behalwe diegene wat die woord fisies verkondig, is daar omvangryke ondersteuningsdienste nodig soos administrasie, finansiering, voorbidding, die voorsiening van hulpmiddels soos Bybels, Christelike leesstof, voertuie, kommunikasie-apparaat, ens. Elke persoon moet egter daarna streef om self ook die evangelie te verkondig, al is dit net deur persoonlike gesprekke of die verspreiding van boeke, Bybels en traktaatjies.

2. Die kroon van roem vir sielewenners

Die groot taak wat Christus aan sy dissipels opgedra het, is dié van wêreldevangelisasie. Toe Hy ná sy opstanding in die bovertrek aan die dissipels verskyn het, het Jesus gesê: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Later het Hy die opdrag aan hulle herhaal: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Mark. 16:15).

Maklik sou dit beslis nie wees om die boodskap van die Here Jesus se reddende genade in ‘n vyandige wêreld te verkondig nie, daarom het die Here die krag van die Heilige Gees aan sy kerk belowe: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).

Vir diegene wat ander mense na Christus toe lei, word die kroon van roem beloof. Paulus sê in sy brief aan die gemeente van Thessalonika: “Wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms?” (1 Thess. 2:19). So sal alle ander mense wat verlore siele na Jesus toe lei, ook die kroon van roem voor die regterstoel ontvang.

3. Die kroon van heerlikheid vir getroue herders

Die geestelike versorging en opbouing van die gemeente is ‘n baie belangrike aspek van Christelike dienswerk wat deur die Here self bepaal is. In Openbaring verwys Hy op ‘n buitengewone wyse na die sewe gemeentes en hulle predikante:

“Die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die sewe engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes” (Op. 1:20).

‘n Predikant moet soos ‘n helder skynende ster in die Here se regterhand wees. ‘n Ster (bedoelende ‘n planeet) het geen lig in homself nie, maar dit weerkaats die sonlig op aarde. So ook moet ‘n prediker ‘n afskynsel van die lig van die son van geregtigheid in ‘n donker wêreld wees. Hy is nie self die lig nie, maar hy getuig van die lig.

Verder word die predikant met ‘n engel vergelyk. “En van die engele sê Hy wel: Hy wat van sy boodskappers winde maak en van sy dienaars vuurvlamme” (Heb. 1:7). Die predikant is dus ‘n boodskapper wat met ‘n boodskap van God na die gemeente gestuur word; ook is hy ‘n dienaar van die gemeente én van God. Hy moet die gemeente bedien met die brood van die lewe, asook met die veelvuldige genadegawes van die Here.

Petrus sê dat die prediker ook ‘n herder is wat die kudde moet lei. Hy moet dit nie met murmurering doen nie, en ook nie met die oog op selfverryking nie. Hy moet nie ‘n harde en ongenaakbare meester wees nie, maar ‘n navolgenswaardige voorbeeld stel en waak oor hulle belange. As hy dit nougeset doen, sal die Here aan hom die kroon van heerlikheid gee:

“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang" (1 Pet. 5:2-4).

Dit is duidelik dat predikers ‘n swaarder oordeel as ander mense sal ontvang as hulle nie hul werk doen soos wat die Here dit van sy geroepenes en gesante verwag nie. Dit behels onder meer dat hulle die volle raad van God moet verkondig, insluitende die boodskap van die wederkoms. Die Here sal ook ongeredde mense se bloed van hulle hande eis. Aan die ander kant sal hulle ryklik beloon word as hulle getroue herders was.

Weens die groot verval van die laaste dae het getroue en bekwame herders wat die woord van die waarheid reg sny, baie skaars geword. Die meerderheid sal ter wille van populariteit, en ook onder die beïnvloeding van hulle kollegas wat valse profete is, die weg van kompromie volg en ‘n maklike maar valse evangelie verkondig. Paulus het duidelik teen hulle gewaarsku:

“Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels" (2 Tim. 4:3-4).

Maak seker dat u in u gemeente met die onvervalste melk van die Woord bedien word, en saam met u leraar met vrymoedigheid voor die regterstoel van Christus sal kan verskyn. As dit nie die geval is nie, moet u so gou as moontlik onder die vormgodsdienstiges uitgaan (2 Tim. 3:5).

4. Die kroon van die lewe vir Christen-martelare

Aan elkeen wat sy lewe ter wille van sy geloof aflê, word die kroon van die lewe beloof. Die Here sê vir die martelare:

“Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Op. 2:10).

Deur die eeue heen was daar getroue diensknegte van die Here Jesus wat bereid was om ten koste van hulle veiligheid, hulle werk, hulle gesinne, en selfs hulle eie lewe, die vlam van geloof in ‘n vyandige wêreld omhoog te hou. Hulle het die volle implikasies van Christus se woorde besef toe Hy gesê het: “Kyk, Ek stuur julle soos lammers onder die wolwe” (Luk. 10:3). Ook het Hy gesê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê” (Joh. 16:33).

Hoe ís Christene die afgelope byna 2000 jaar nie op verskillende maniere vervolg, verdryf, bespot, geïntimideer en in strafkampe gesit nie, terwyl miljoene die hoogste prys vir hulle geloof betaal het. Die Here sal hulle spesiaal beloon.

By die kategorie van martelare is ook ingesluit diegene wat ‘n swaar kruis van beproewing in hulle lewe moes dra. Volgens Jakobus 1:12 sal hulle ook beloon word as hulle getrou bly. Daar is baie mense wat gestrem is, of gestremde kinders het, wat siek of verlam is, wat onderdruk, misken of verwerp word, of wat dalk werkloos, arm, honger of sonder huisvesting is. Hulle word almal bemoedig om die geloof te behou en op hulle moeilike weg te volhard. Sommige van hulle kry uitkoms in hierdie lewe en ander nie. Die hoofsaak is dat hulle tot die einde toe getrou moet bly en wag op die volmaaktheid wat ons eendag in die hiernamaalse lewe sal hê (2 Kor. 4:16-18; Heb. 11:35).

5. Die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefhet

Om die Here se koms lief te hê, vereis ‘n ingesteldheid op dinge met ewigheidswaarde. Jy moet skatte in die hemel bymekaarmaak waar mot of roes nie verniel en waar diewe nie inbreek en steel nie. As jy sê dat jy die Here Jesus se koms liefhet, dan sê jy dat Hy jou Koning is, dat jy by die vestiging en uitbreiding van sy koninkryk betrokke is, en dat jy uitsien na die dag wanneer Hy as Koning openbaar sal word.

Intussen is jy ‘n vreemdeling en ‘n bywoner op aarde omdat jou ewige tuiste nie hier is nie. Paulus het die goeie stryd van die geloof gestry terwyl hy die koninkryk van Christus in ‘n heidenwêreld gevestig het. Kort voordat hy weens sy geloof tereggestel is, het hy opnuut sy sterk verwagting vir die koms van Jesus en sy koninkryk van geregtigheid uitgespreek:

“Ek het die goeie stryd van die geloof gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het" (2 Tim. 4:7-8).

Wanneer die dag van die Here begin (“in dié dag…”) gaan Hy krone as genadeloon aan sy getroue diensknegte toeken. Terselfdertyd sal Hy sy toorn oor ‘n goddelose wêreld uitstort sodat die sondaars ook kan maai wat hulle gesaai het.

Aan dié wat aan die Here behoort, openbaar Hy homself in heerlikheid en maak ons deelgenote van sy heerlikheid. Dan sal ons almal verheerlikte liggame kry en as burgers van die hemelse koninkryk saam met Christus regeer:

“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21).

Nadat die kinders van Here hulle verheerlikte liggame en krone gekry het, sal hulle rondom die troon van die Lam hulle plekke inneem om saam met Hom die aarde in geregtigheid te oordeel. Dan sal die sewe seëls van die boekrol van God se oordele in die hemel gebreek word, en sal die Antichris skielik as ‘n valse vredevors op die toneel verskyn. Omdat sy teëhouer dan weg is, sal hy homself met groot misleiding kan openbaar.

 

16. Die Antichris

Die Antichris sal 'n duiwels-geïnspireerde leier wees wat die wêreld die laaste sewe jaar voor die wederkoms van Christus sal regeer. Hy sal in die Arabiese wêreld noordoos van Israel sy verskyning maak en spoedig 'n posisie van wêreldheerskappy bereik. Saam met die valse profeet sal hy alle nasies mislei om te dink dat hy die gemeenskaplike messias van alle gelowe is, en gekom het om vrede en eenheid op aarde te bring. Die bloedige diktatuur waarin sy bewind sal eindig, word in die Bybel as 'n groot verdrukking beskryf soos daar nog nooit was nie.

Die volgende skrifgedeelte bevat verskeie besonderhede oor die openbaring van die Antichris:

“Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is… En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak; hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2: 3-12).

Paulus gee in dié gedeelte twee aanduidings van iets wat eers moet gebeur voordat die Antichris geopenbaar sal word. In vers 3 sê hy dat die afval eers moet kom. Die Griekse woord apostasia wat hier as afval vertaal is, se grondbetekenis is vertrek. Wanneer die waarheid vertrek, tree daar groot goddeloosheid en afvalligheid in, soos hier geïmpliseer. Die vertrek van die waarheid moet hier in noue samehang met die vertrek van die Christene tydens die wegraping gesien word.

In ‘n gesaghebbende boek wat deur vooraanstaande evangeliese teoloë oor die eskatologie opgestel is (When the Trumpet Sounds, onder redaksie van Thomas Ice en dr. Tim Demy) word apostasia as die wegraping aangedui.

In elk geval gaan daar groot afvalligheid in die laaste dae voor die wegraping plaasvind (2 Tim. 3:1-5), maar in 'n veel groter mate nadat die Christene skielik vertrek het en groot geestelike duisternis oor die aarde sal toesak. Dan sal die Antichris as die mens van sonde en die seun van die verderf geopenbaar word en leiding in ‘n wêreldwye rebellie teen behoudende Christelike norme neem. Hy sal ‘n sonde-kultuur vestig en aanmoedig.

Die tweede verwysing na die belangrike gebeurtenis wat voor die openbaring van die Antichris moet plaasvind, is in vers 7 en 8, en sluit by bogenoemde gedagte van die vertrek aan: “net totdat hy wat nou teëhou uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word…” Die teëhouer is die liggaam van Christus, nl. sy kerk op aarde, wat skielik weggeraap sal word. Groot geestelike duisternis sal dan wêreldwyd heers, en dit sal aan die Antichris die geleentheid bied om sonder teëstand geopenbaar te word.

Daar is diegene wat die mening huldig dat die teëhouer die Heilige Gees is. Die feit is egter dat daar ná die wegraping nog vele siele op aarde gered sal word (Op. 7), en oor die volk Israel gaan daar ‘n nuwe uitstorting van die Gees plaasvind (Sag. 12:10). Die Heilige Gees word dus nie met die wegraping van die aarde af onttrek nie. Omdat die Christene ook tempels van die Heilige Gees is (1 Kor. 3:16), is dit waar dat die Gees direk ná die wegraping min kanale sal hê waardeur Hy kan werk, en dit is juis dan wanneer die Antichris sy groot skuif gaan maak. Spoedig hierna sal daar egter ‘n Gees-gewerkte herlewing onder Jode plaasvind.

Al hierdie feite dui onmiskenbaar daarop dat die wegraping vóór die openbaring van die Antichris en die begin van die sewe jaar lange verdrukking sal plaasvind. Dit is juis die wegraping wat aan ‘n verrassingselement gekoppel is deurdat die tyd daarvan nie bereken kan word nie. Alle Christene moet dus altyd hiervoor gereed wees. Dié belofte is soos die blink môrester wat vir almal van ons wink om onsself na die dag van Christus se wederkoms uit te strek en deur ons optrede die koms van sy koninkryk te verhaas.

Christene het dus ‘n Christus-verwagting en nie ‘n Antichris-verwagting nie. Ons wag vir die Here Jesus wat op ‘n uur sal kom wanneer niemand Hom verwag nie. Intussen moet ons teëhouers in die opmars van die Antichris wees en mense aktief teen hom en al sy goddelose strategieë waarsku. Vir hom en sy skrikbewind is ons egter nie bestem nie, daarom hou ons onsself nie met oorlewingstrategieë vir die donker dae van die groot verdrukking besig nie. Ons gaan vir Christus ontmoet en nie die Antichris nie.

‘n Verdere belangrike stelling wat omtrent die Antichris in 2 Thessalonicense 2 gemaak word, is dat hy ‘n eindtydse figuur is. Hy sal kort voor die wederkoms van Jesus op die toneel verskyn, en ‘n lewende persoon op aarde wees wanneer Jesus sy voet op die Olyfberg neersit. Op daardie dag sal die Antichris verdelg word:

“…dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:8).

Diegene wat ‘n historiese vertolking aan die profesieë oor die Antichris koppel, is heeltemal uit pas met wat die Bybel hieroor sê. Om tiranne soos Nero, of sekere pouse in die verlede as die Antichris te etiketteer, bring baie teenstrydighede mee. Hoe kan hulle as lewende persone by die wederkoms van Jesus verdelg word? Dat hulle antichriste in die kleine was, wat die weg vir hierdie eindtydse diktator help voorberei het, is waar. Die finale vervulling van die profesieë oor die Antichris is egter toekomstig omdat dit duidelik binne ‘n eindtydse situasie geplaas is.

Let ook daarop dat die Antichris ’n persoon sal wees en nie ‘n onpersoonlike stelsel nie. Hy word die mens van sonde genoem, asook die seun van die verderf en die teëstander wat in die tempel sal sit en homself tot God verklaar. Die Bybel sê dat hy lewendig in die hel gewerp sal word op die dag wanneer Jesus kom (Op. 19:20). Dat hy ‘n regeringstelsel en ‘n bepaalde ideologie sal hê waarvolgens hy sal regeer, is seker. Hy sal as ‘n lewende persoon egter die hoof van die sisteem wees en saam met die valse profeet ‘n tweemanregering vorm om die hele wêreld onder Satan se heerskappy te plaas en volgens sy opdragte te handel.

Die vier ruiters

Volgens Openbaring 6:1-8 gaan die Antichris op ‘n heel besondere wyse geopenbaar word in sy poging om die mensdom eers deur misleiding en dan deur ‘n genadelose diktatuur onder sy absolute beheer te kry. In die eerste stadium van sy bewind sal hy as ‘n vredevors op die wêreldtoneel verskyn (die ruiter op die wit perd). Feitlik niemand sal deur sy bedekte bedrog en valse vredesmantel kan sien wie hy werklik is nie. Hy sal sy aanspraak dat hy ‘n gesant van God is, op ‘n skouspel van bonatuurlike magte en wonderwerke baseer. Alle godsdienste sal hom as gevolg hiervan as hulle gemeenskaplike wêreldmessias aanvaar. Deur slim diplomasie sal hy ook die wêreld polities verenig om die hoof van ‘n wêreldregering te word.

Wanneer dit 3½ jaar later blyk dat die Antichris se eenheidshervormings en sosialistiese wêreldregering misluk het en rebellie teen sy bewind voorkom, sal hy homself tot geweld wend om sy posisie te handhaaf, en daardeur ‘n militêre diktator word (die ruiter op die rooi perd). Streng ekonomiese beheer en rantsoenering sal tydens die oorloë en hongersnode ingestel word (die ruiter op die swart perd). Hierna bly daar nog net een hoedanigheid vir die Antichris in sy skrikbewind oor, en dit is om as die doodsengel soveel as moontlik mense af te maai en saam met hom na die verderf te sleep (die ruiter op die vaal perd).

In die profetiese rede het Christus dieselfde orde van gebeure beskryf wat in die verdrukking sal plaasvind (Matt. 24:4-9). Dit begin by ‘n valse vrede wat deur die valse Christus en sy meelopers ingestel sal word:

·          “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (die wit perd). ·          "Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë... Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (die rooi perd). ·          “En daar sal hongersnode wees en pessiektes” (die swart perd). ·          “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak” (die vaal perd).

Identiteit van die Antichris

In Openbaring 13 word meer besonderhede oor die identiteit en rol van die Antichris gegee, wat as ‘n dier met sewe koppe voorgestel word, asook van sy mederegeerder, die valse profeet:

Die Antichris: “En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, en sy pote soos dié van ‘n beer, en sy bek soos die bek van ‘n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen… Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie…” (Op. 13:1-7). Die valse profeet: “En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom… En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewend geword het. En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig” (Op. 13:11-18).

In Openbaring 17 word nog ‘n intieme bondgenoot van die Antichris genoem, uit wie ons meer van hom te wete kan kom. Dit is ‘n vrou wat al die valse (antichristelike) godsdienste van alle tye voorstel:

“…en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings… en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Op. 17:3, 5).

Hierdie vrou is die moeder van die afvalliges, en as sodanig ‘n geestelike moederorganisasie (‘n alliansie of ekumeniese liggaam) vir al die valse godsdienste. Sy was in ‘n noue assosiasie met al die vorige wêreldryke, en sy sal ook op die dier se rug ry en ten nouste met hom en sy komende wêreldregering geassosieer wees. In Openbaring 17 word ons gehelp om sowel vir haar as die dier op wie se rug sy ry, beter te verstaan:

“Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; en die ander het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ‘n kort tydjie bly. En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf” (Op. 17:9-11).

Die eerste gevolgtrekking wat ons hier moet maak, is dat Johannes nie van die sewe berge van Rome praat nie, en dus nie ‘n profesie uitgespreek het wat uitsluitlik op die Rooms-Katolieke Kerk betrekking het nie. Hy sê dat die sewe berge sewe goddelose konings (of koninkryke) is wat mekaar chronologies opvolg in tyd. Ons weet ook dat hy nie na Romeinse keisers verwys nie, omdat daar tussen Nero en Konstantyn alleen tien antichristelike keisers aan bewind was. Nee, die Here gee vir ons hier ‘n breë perspektief op sewe wêreldryke wat almal vestings vir heidense gelowe was (en sal wees) en dus in openlike rebellie teen die koninkryk van God is. In Génesis, Jesaja en Daniël word na hierdie ryke verwys. Hulle is die volgende:

1.    Die oud-Babiloniese ryk wat deur Nimrod gestig is.

2.    Die Assiriese ryk.

3.    Die neo-Babiloniese ryk van Nebukadnésar.

4.    Die Medo-Persiese ryk.

5.    Die Griekse ryk.

6.    Die Romeinse ryk.

7.    Die eindtydse ryk van die Antichris.

In die aangehaalde gedeelte sê Johannes duidelik dat vyf van hierdie koninkryke in sy tyd reeds geval het, die een was aan bewind en die sewende een moes nog kom. In die jaar 95 n.C. toe die boek Openbaring geskryf is, het vyf van dié ryke inderdaad reeds geval – dit is van die oud-Babiloniese ryk af tot by die Griekse ryk. Die Romeinse ryk was bestaande en die eindtydse ryk van die Antichris nog toekomstig. Die laaste ryk word deur die sewende kop met die tien horings voorgestel.

Dit is belangrik om die korporatiewe karakter en samehorigheid van hierdie sewe wêreldryke raak te sien: dit is een dier met sewe koppe. Hulle adem almal dieselfde gees van verderflike humanisme, selfverheffing, sondigheid, gewelddadigheid, rebellie teen die lewende God, asook betrokkenheid by die okkultiese werke van die duisternis. Almal van hulle is dus vestings van valse godsdienste en as sodanig ‘n sataniese komplot teen die koninkryk van God en die stad van die groot Koning, Jerusalem.

Die Antichris se eindtydse ryk moet dus as voortvloeiend uit die vorige ses ryke gesien word. Dit is wesenlik deel van dieselfde godsdienstige en politieke rebellie wat al vir duisende jare deur Satan aangeblaas word, en deur hom gebruik word om die koninkryk van God op aarde te probeer vernietig. Sy einddoelwit is om oor God se skepping te heers en in sy plek as God aanbid te word. Onderweg na die bereiking van hierdie ideaal sal alle moontlike vorms van misleiding, omkopery, dwang, onderdrukking en militêre geweld gebruik word wat hy vir sy doel nuttig vind en wat hy kan slaag om te monster.

Die Antichris se aanslag sal deel van die eeue oue stryd tussen die Godsryk en die Satansryk wees. Hy sal die hoof van die sewende én agtste wêreldryke wees (Op. 17: 11). Aanvanklik sal hy saam met ander konings aan die hoof van ‘n regering van internasionale eenheid staan (sy vredesregering). Daarna, in die tweede helfte van die verdrukking, sal hy ‘n militêre diktatuur instel waarin hy in ‘n driemanregering saam met die draak en die valse profeet oor die aarde sal heers (sy militêre bewind).

Die noue verband tussen die Antichris se eindtydse ryk en die vorige wêreldryke blyk ook uit die feit dat hy as ‘n dier met die lyf van ‘n luiperd, die pote van ‘n beer, die bek van ‘n leeu en ‘n kop met tien horings daarop voorgestel word (Op. 13:2).

Hierdie simboliek stem met dié in Daniël 7 ooreen waarin die Babiloniese ryk as ‘n leeu, die Medo-Persiese ryk as ‘n beer, die Griekse ryk as ‘n luiperd en die Romeinse ryk as ‘n wreedaardige dier met tien horings op sy kop voorgestel word. Dit beteken dat kenmerke van al hierdie ryke in die Antichris en sy eindtydse ryk sal herleef – dit sal dus nie net ‘n herleefde Romeinse ryk wees nie, maar ook ‘n herlewing van al die slegte eienskappe van die Babiloniese, Medo-Persiese en Griekse ryke:

·         Die Antichris sal die Babiloniese tradisie van die vergoddeliking van die koning volg. Hy sal homself bo elke god verhef en ook die gesag van die ware God van die hemel uitdaag. Hy sal ‘n beeld van homself laat maak en alle onderdane van sy wêreldryk dwing om in aanbidding voor die beeld neer te buig. Elkeen wat ‘n ander god aanbid en sou weier om die koning se beeld te aanbid, sal in ‘n vuuroond van vervolging en marteling gewerp word. Hy sal ook, soos Nebukadnésar, Jerusalem beleër, die Joodse regeringsleiers om die lewe bring en die volk verdryf en verstrooi.

·         Soos in die Medo-Persiese ryk, sal die dier die volke van die aarde onder sy pote vertrap, hulle regerings afskaf en hulle onderdane by sy ryk inlyf. In sy regering sal hy nie die oppergesag van God erken nie, maar op absolute en ongebonde alleenheerskappy aanspraak maak. Hy sal militêre dekrete uitvaardig en deur middel van die onherroeplike wette van die Meders en die Perse regeer. Hy sal ook, soos koning Ahasveros van ouds, ‘n Joodse volksmoord in sy hele koninkryk gelas.

·         Die Griekse ryk is deur Daniël as ‘n luiperd met vier vlerke voorgestel. Hulle het hoogs beweeglike leërs gehad wat deur vernuftige krygskuns gekenmerk is, en vinnig en doeltreffend toegeslaan het. Die Antichris sal ook hoogs mobiele taakmagte op die been bring wat feitlik oornag enige plek in die wêreld ontplooi kan word om opstande te onderdruk en sy beleid af te dwing. In die Griekse ryk was goewerneur Antiochus Epifanes ‘n fanatieke Jodehater wat teen hierdie volk oorlog gevoer het. Hy het hulle godsdiens probeer uitwis deur ouers tereg te stel wat hulle kinders laat besny het. Hy het ook ‘n afgodsbeeld van Zeus in die tempel opgerig. Sodoende het hy probeer om die Jode godsdienstig afvallig van hulle God te maak en hulle by die Hellenistiese wêreldgodsdiens in te lyf. Al dié eienskappe sal ook kenmerkend van die dier se ryk wees.

·         Die Romeinse ryk, wat voorgestel word deur die vierde dier met die tien horings op sy kop, was skrikwekkend. Die Romeine het die Joodse provinsies beleër, dorpe en stede ingeneem en verwoes, en honderde duisende mense om die lewe gebring. Met die beleëring en verowering van Jerusalem in 70 n.C. is die tempel totaal verwoes, 1,1 miljoen Jode is dood en bykans 100 000 is krygsgevange geneem, waarvan baie op slawemarkte verkoop is. Die Antichris sal ook hierdie onbeheerste vernietigingsdrang vertoon. In die middel van die verdrukking sal hy alle Jode probeer uitdelg nadat hulle as gevolg van sy selfvergoddeliking en die ontheiliging van die tempel hulle verbond met hom verbreek het.

Dit is dus duidelik dat die Antichris se ryk nie slegs ‘n herlewing van die Romeinse ryk sal wees nie, maar van al die groot wêreldryke. Dit sal veral sterk Babiloniese eienskappe vertoon. Om hierdie rede is dit verkeerd om net na Wes-Europa as die herstelde Romeinse ryk te kyk en te beweer dat die Antichris uit Rome moet kom. Sy oorsprong sal uit ‘n land wees wat deel van al hierdie ryke was, naamlik uit die gebied van die koning van die Noorde (Dan. 11:36-45). Dit is noord-noordoos van Israel geleë en was in verskillende tye in die geskiedenis as Babilonië, Assirië en Sirië bekend. Huidiglik is dié gebied as Sirië en Irak bekend, maar die hartland daarvan is in Irak. Dit is ook waar die stad Babilon geleë is, wat nou weer herbou word.

Die boek Daniël is van groot hulp om die land van oorsprong van die Antichris vas te stel:

·         Eers word hy as een uit tien voorgestel (Dan. 7:7-8), wat een van tien lande in die ou Romeinse ryk is. Die Siriese provinsie (wat die huidige Irak insluit) was deel van dié ryk.

·         Daarna word hy as een uit vier voorgestel, wat die vier provinsies in die verdeelde Griekse ryk is (Dan. 8:8-9). Sirië (wat die huidige Irak insluit) was een van dié vier provinsies.

·         Uiteindelik word hy as een uit twee voorgestel, wat die gebiede van die koning van die Noorde en die koning van die Suide in die verdeelde Griekse ryk ná Alexander die Grote was (Dan. 11). Die noordelike provinsie was Sirië en die suidelike een Egipte. Die historiese stryd tussen hulle word in Daniël 11:2-35 beskryf, en die eindtydse koning van die Noorde (die Antichris) in Daniël 11:36-45. Hy sal dus uit Irak of Sirië kom.

In Jesaja 10 is ook ‘n duidelike profesie oor die herstelde Assiriese ryk van die eindtyd. Dit word binne die konteks van die dag van die Here geplaas (Jes. 10:20), en die Antichris as die koning van Assirië voorgestel:

“Maar as die Here sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë. Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos ‘n maghebber neergewerp. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na ‘n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos ‘n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat ‘n vlerk verroer of ‘n bek oopgemaak of gepiep het nie” (Jes. 10:12-14).

Die Antichris sal dus sonder enige moeite die grense tussen die volke verwyder ten einde sy beleid van internasionalisme deur te voer. Hy sal ook maklik beheer oor die wêreldekonomie verkry en daardeur ‘n magsposisie bekom. Hiertoe sal hy die volle samewerking van die misleide en insiglose politieke leiers van sy ryk hê:

“En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Op. 17:12-13).

Israel én die hele wêreld sal swaar verdruk word. Deur die Here se ingryping by sy wederkoms sal hulle egter van die eindtydse Assiriër en sy wêreldmag se wrede skrikbewind verlos word (Jes. 10:23-25; Miga 5:4-6). Geen menslike poging sal egter suksesvol wees om die Antichris te onttroon en sy diktatoriale mag oor die wêreld te verbreek nie.

Magsbasisse van die Antichris

Die eerste 3½ jaar van die verdrukking sal die Antichris as ‘n valse vredevors regeer en wêreldeenheid nastreef. Dan sal hy sy groot aanslag loods. Sy gedaanteverwisseling in die middel van die verdrukking sal só dramaties en vreesaanjaend wees dat hy die hele mensdom aan die wreedhede en afskuwelike magspel van openlike satanisme sal onderwerp, soos in Openbaring 13 beskryf word. Nadat hy ‘n dodelike wond ontvang en weer lewendig geword het, sal die duiwel nie meer as vredevors en engel van die lig deur hom manifesteer nie, maar as ‘n magshonger diktator wat vol godslastering, sadisme en moordplanne is.

Hy sal ‘n diktatuur instel wat op politieke, godsdienstige én ekonomiese magsbasisse berus. Op elk van hierdie drie terreine sal totalitêre beheer uitgeoefen word met die doel om alle mense tot absolute slawerny te verneder. Hulle sal geen politieke regte, godsdiensvryheid óf ekonomiese selfbeskikkingsreg buite die strukture van sy nuwe wêreldorde kan verkry nie. Hiervoor sal die Antichris self sorg, omdat hy nie sy alleenheerskappy sal prysgee nie.

Die twee helftes van die Antichris se bewindstermyn kan skematies só uiteengesit word:

Politieke mag

In die laaste helfte van die verdrukking, wat die groot verdrukking genoem word, sal die Antichris ‘n alleenheerser en militêre diktator wees wat sy gesag op geweld baseer. Geen aardse mag sal teen hom kan standhou nie, want “aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Daar sal nie ‘n enkele nasie met ‘n soewereine regering wees nie, en almal sal volle uitvoering aan die dier se militêre dekrete moet gee. Politieke dislojaliteit sal nie geduld word nie, en maghebbers wat hulle eie beleid volg, sal van hulle trone afgeruk word (Jes. 10:13).

Die Antichris sal ‘n moderne Nebukadnésar wees en die wêreldburgers van sy tyd na willekeur hiet en gebied. Die eienskappe van ander bekende militêre diktators in die geskiedenis, soos Nimrod, Alexander die Grote, Nero, Hitler en Stalin sal op ‘n oortreffende wyse in sy optrede weerspieël word. Sy militêre veldtogte sal nie slegs op aardse teikens gerig wees nie, want die grootste sametrekking van militêre magte wat die wêreld nóg gesien het sal in Israel teen ‘n hemelse leër ontplooi word (Op. 19:19). Dit sal tot die veelbesproke slag van Armagéddon lei (Op. 16:14, 16).

Godsdienstige mag

Universele godsdienseenheid, m.a.w. die inherente eenheid van alle gelowe op aarde, sal die godsdienstige ideologie van die Antichris wees. Die grondslag van hierdie ideologie is dat alle gelowe dieselfde God op verskillende maniere aanbid. Ten spyte van uiterlike verskille is hulle dus almal in hulle diepste kern dieselfde. Die logiese uitvloeisel hiervan is dat alle gelowe ook vir dieselfde universele messias wag, al gebruik hulle verskillende name vir hom.

Dit is inderdaad soos wat die Antichris sy verskyning op aarde sal maak: die Christus vir die Christene, die Messias vir die Jode, Krishna vir die Hindoes, die Imam Mahdi vir die Moslems, en die Maitreya Boeddha vir die Boeddhiste. Hy sal hulle onder sy gemeenskaplike leierskap tot ‘n hegte alliansie saamvoeg. Openbaring 17:3-5 beeld dié ekumeniese groep as ‘n ontugtige vrou uit wat op die dier se rug ry en hartlik met hom saamwerk.

Hierdie Babiloniese sameflansing van gelowe is die bruid van die Antichris, net soos wat die ware kerk die bruid van Christus is. Die Antichris sal sy bruid dra, koester, en groot openbare erkenning aan haar gee. Hy sal haar as ‘n bondgenoot in die skepping van eenheid op aarde gebruik. Al haar volgelinge sal van hulle onderlinge eenheid bewus gemaak word, en dit sal die grondslag vir ‘n mistiese wêreldbroederskap lê. Hierdie godsdienstige band sal die realisering van sosiale, politieke en ekonomiese eenheid aansienlik vergemaklik.

Getrou aan sy aard, sal die Antichris se huwelik met sy bruid [die valse gelowe] nie baie lank hou nie. Ná 3½ jaar sal hy homself tot God verklaar en die direkte persoonlike aanbidding van alle mense opeis. Dan sal die verskillende godsdienste, hulle kerke, tempels, moskees en sinagoges nie meer nodig wees nie, en vernietig word. Die Antichris sal dus aan sy bruid die opsie bied om óf sy verhoogde status van messias na God te aanvaar en hom as God te aanbid, óf om tereggestel te word. Met die alliansie van godsdienste en hulle verbintenis aan die Antichris as die wêreldmessias, sal dit dan verby wees:

“En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Op. 17:16).

Die godsdienstige einddoel van die Antichris sal wees om saam met Satan as God aanbid te word (Op. 13:4, 8, 15). Satanisme sal dus die enigste erkende wêreldgodsdiens in die groot verdrukking [die tweede 3½ jaar] wees. Die eerste fases van die Antichris se godsdienstige ideologie word nou reeds in voorbereiding op sy verskyning geïmplimenteer. Dit sal deur die volgende stadiums na die einddoel daarvan beweeg:

Godsdiensgelykheid. Alle gelowe is gelykwaardig, en die een is nie beter as die ander nie. Die speelveld word gelyk gemaak, en hulle word aangemoedig om by ekumeniese liggame soos die Verenigde Godsdienste Inisiatief, die Wêreldkonferensie vir Godsdiens en Vrede en die Parlement vir Wêreldgodsdienste aan te sluit en aktief oor vrede en eenheid met mekaar saam te werk.

Godsdienseenheid. Die idee word aanvaar dat alle gelowe dieselfde God aanbid, daarom kan hulle geestelike inhoud aan hulle ekumeniese bande gee. Hulle sal die evangeliese Christendom wat op Bybelse gronde weier om kompromie te maak en met ander gelowe te assosieer, erg diskrediteer.

‘n Intieme alliansie van wêreldgodsdienste. Die Antichris sal as die gemeenskaplike messias van alle gelowe op die toneel verskyn en die alliansie as sy bruid heg saamsnoer. Hy sal groot mag en aansien aan hulle verleen en die afstand tussen hulle verder vernou. Hulle sal die evangeliese Christene wat nie by hulle wil inskakel om die dier te aanbid nie, hewig vervolg.

Verpligte aanbidding van Satan en die Antichris. Die valse gelowe sal ná 3½ jaar deur hulle eie messias [die Antichris] verwerp en vernietig word tensy hulle bereid is om hom as God te aanbid. Hierdie misleides se uiteinde is die poel van vuur waar hulle vir ewig saam met die duiwel, die Antichris en die valse profeet gepynig sal word (Op. 14:9-11).

Die Antichris sal die Christene wat hom nie wil aanvaar en aanbid nie, almal laat teregstel (Op. 6:9-11; 13:7, 15; 20:4). Hy sal die ware Christus en die ware God belaster en totaal verwerp (Op. 13:5-6). Sy laaste groot magsmonstering op aarde sal in Jerusalem wees, waar hy Jesus sal inwag om teen Hom oorlog te voer. Die Antichris sal dit doen in ‘n desperate poging om sy eie sataniese wêreldryk van ondergang te red.

Ekonomiese mag

Benewens politieke en godsdienstige mag, gaan die wêreld se geldmag ook deur die Antichris gebruik word om die mensdom op alle lewensterreine te beheer en te verslaaf. Deur die instelling van ‘n gerekenariseerde, kontantlose ekonomie sal alle ekonomies aktiewe mense se koop- en verkooptransaksies beheer word (Op. 13:16-18).

Dit is uit hierdie gedeelte duidelik dat nommers of kodes aan mense toegeken sal word, waarsonder hulle nie sal kan koop of verkoop nie. Daar sal dus geen kontantgeld meer in omloop wees nie. Die stelsel van elektroniese fondsoorplasing sal ook net toeganklik wees vir mense wat “die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.” Dit beteken dat ‘n formele eed van getrouheid aan die Antichris as die god en koning van hierdie wêreld afgelê sal moet word voordat ‘n persoonlike identiteitsnommer (PIN) aan ‘n aansoeker toegeken sal word. Hierdeur sal hy egter sy siel aan die duiwel verkoop, omdat hy deur die eed wat hy afgelê het, die Antichris se politieke, godsdienstige én ekonomiese status sal erken. Hy sal dus bewustelik aan die dier verbonde wees.

Die bewering wat sommige teoloë maak dat daar nooit enige gevaar in ‘n kontantlose ekonomiese stelsel sal wees nie, en dat die nommer of die merk van die Antichris nie letterlik opgeneem moet word nie, is deel van Satan se propagandaveldtog om mense nou reeds op die aanvaarding van sy nommerstelsel voor te berei. ‘n Ekonomiese stelsel vir die beheer van koop- en verkooptransaksies is geen simboliese uitspraak oor een of ander abstrakte saak nie, maar ‘n letterlike stelling oor ‘n alledaagse menslike handeling.

Indien u waardig is om die komende verdrukking te ontvlug, sal die Antichris se nommer nooit op u afgedwing kan word nie. Indien u onder diegene sal wees wat agterbly, en in daardie tyd u saak met die Here regmaak, sal u die Antichris, sy regeringstelsel, sy valse wêreldgodsdiens, sy eis van persoonlike aanbidding én die aanbod van sy nommerstelsel, volkome moet verwerp ongeag die haglike gevolge wat dit vir u sal inhou.

Vir diegene wat ‘n eed van getrouheid aan die Antichris aflê, sy nommer aanvaar en hom aanbid, sal dit vir ewig nag word omdat hulle ook sy oordeel met hom sal deel:

“As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie – hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang” (Op. 14:9-11).

Aan die ander kant is daar die oorwinnaars oor die sataniese komplot, wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie:

“En die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God” (Op. 15:2).

Uiteinde van die Antichris

Tydens die hoogtepunt van die slag van Armagéddon sal Jesus Christus en sy hemelse leërskare neerdaal, en Hy sal sy voete op die Olyfberg in Jerusalem neersit. Dan sal die finale oordeel van die Antichris en die valse profeet aanbreek:

“En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21).

 

17. Die Valse Profeet

Die valse profeet sal ‘n groot rol in die regering van die Antichris speel. Uiterlik gesproke sal dit ‘n tweemanregering wees omdat die Antichris in noue assosiasie met die valse profeet sal optree en regeer. In werklikheid sal dit egter ‘n driemanregering wees, omdat die duiwel as ‘n geestelike mag absolute beheer oor hierdie regering sal uitoefen. Dit sal dus ‘n sataniese trilogie wees. As sodanig is dit ‘n nabootsing van God se regering, omdat die draak die teëbeeld van God is, die dier is die teëbeeld van Christus en die valse profeet die teëbeeld van die Heilige Gees.

Die Bybel sê die volgende oor die openbaring van die valse profeet:

“En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. En hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Op. 13:11-13).

Die valse profeet sal ‘n ander dier wees, uit dieselfde koninkryk as wat die eerste dier kom. Hy sal net ‘n ander een van dieselfde soort as die eerste dier wees. Hy sal lyk soos ‘n lam maar praat soos ‘n draak. Hy sal dus ‘n onskuldige voorkoms hê, soos ‘n godsdiensleier wat homself ten doel stel om die wêreld te verenig en in ‘n tydperk van vrede in te lei. Wanneer hy praat, sal dit egter duidelik wees dat hy oor al die misleidingsmag en bonatuurlike kragte van die draak beskik. Een van sy skouspelagtigste wonderwerke sal wees dat die Antichris in die middel van die verdrukking uit die dood opgewek sal word nadat hy vermoor is (Op. 13:3, 12).

Die valse profeet sal totaal onverdraagsaam teenoor die ware Christene wees. Van hulle sal hy lasterlike dinge spreek. Hy sal die dier ten koste van Christus verheerlik en die wêreld deur middel van sy wonderwerke verbyster. Soos die Antichris, sal hy deur sy duiwelse slimheid met geluk bedrog pleeg (Dan. 8:25). Sodoende sal mense se sinne en oordeelsvermoë deur die god van hierdie wêreld verblind word (2 Kor. 4:4).

Ondersteunende rol van die valse profeet

Volgens Openbaring 13 sal die valse profeet die Antichris se staatmaker en regterhand in sy regering wees. Satan weet dat twee beter is as een. Die valse profeet sal die Antichris aanprys en ophemel, met die gevolg dat mense soveel makliker agter die Antichris sal aanloop. Massamedia soos die radio, televisie, die pers en internet sal tot hulle uiterste aangewend word omdat die valse profeet as die Antichris se hoofpropagandis alles in die stryd sal werp om mense te beïnvloed en te mislei. Hy sal alle breinkrag, kennis, hulpmiddele en onderwysstelsels, asook die vermaaklikheidswêreld, vir die diens van die Antichris mobiliseer.

Valse kerke, insluitende die ekumeniese Christendom, sal as ‘n belangrike wapen in sy hand gebruik word. Die valse profeet gaan aanvanklik dus nie godsdiens verbied nie, maar dit as ‘n handige hulpmiddel vir massamisleiding gebruik. Al wat nie verkondig sal mag word nie, is ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus.

Godsdienste wat mense nie na ‘n lewensveranderende ontmoeting met Jesus Christus lei nie, maar in plaas daarvan afgodediens beoefen, valse messiasse verkondig, politiek en menseregte bevorder, asook kerke en bewegings wat groot klem op tekens en wonderwerke lê, sal die valse profeet soos ‘n handskoen pas. Veral wonderwerke wat deur valse profete verrig word, sal grootliks toeneem en vir massamisleiding ingespan word.

U moet onthou dat Satan oor groot magte beskik en dat Hy God hiermee teëstaan. Die wonderwerke wat God deur Moses in Egipte gedoen het, is in baie gevalle deur die Egiptiese towenaars nageboots. Die duiwel gebruik ook dikwels valse profete met wonderwerkende kragte om mense te mislei. In Deuteronómium 13:1-3 lees ons die volgende hieroor:

“As ‘n profeet of een wat as ‘n dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop – wat jy nie geken het nie – en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die Here julle God beproef julle om te weet of julle werklik die Here julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.”

Geen wonderwerke mag die Woord van God vervang nie! Pas ook op vir die hedendaagse sogenaamde wonderwerke en ook wonderwerkkonferensies waar sintuiglik waarneembare dinge die botoon voer. By sekere byeenkomste verander mense se tandestopsels na bewering in goud, terwyl goudstof selfs uit die lug neerdaal en aan die aanwesiges se hande of hare kleef.

Satan gaan hom al hoe meer op wonderwerke toespits en elke beskikbare demoon of bose gees in sy koninkryk sal vir hierdie doel aangewend word. Omdat die Antichris in die verdrukking krediet vir hierdie wonderwerke en magspel sal kry, sal die hele wêreld verwonderd agter hom aanloop en sê: “Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:4).

Nabootser en teëstander van die Heilige Gees

Die Antichris en die valse profeet sal beide van die gees en die mag van Satan deurdronge wees en dit vryelik manifesteer. Die valse profeet sal die werk van die Heilige Gees op die volgende tien terreine naboots en teëstaan:

·        Soos wat die Heilige Gees ons aan Jesus voorstel en ons leer om Hóm te aanbid, sal die valse profeet die Antichris aan die mensdom voorstel en hulle leer om hóm te aanbid.

·        Die Heilige Gees versamel en reinig ‘n bruid vir Christus, wat die enigste ware kerk is. Die valse profeet sal deur misleiding en afvalligheid ‘n geestelik ontugtige bruid vir die Antichris versamel, wat al die valse gelowe van die wêreld sal insluit.

·        Die Gees van God is die Gees van heiligheid wat ons van sonde oortuig. Die valse profeet het ‘n onrein gees waardeur mense verlei sal word om sonde te doen.

·        Die Heilige Gees verkondig die rein woorde van God aan ons sodat ons na Hóm toe getrek kan word met koorde van liefde. Uit die valse profeet se mond sal ‘n onrein gees kom om die nasies mee te verlei om met Satan ‘n verbond te sluit.

·        Die Heilige Gees is die Gees van waarheid wat ons in die hele waarheid lei. Die valse profeet sal mense mislei en bedrieg om hulle sodoende op ‘n dwaalspoor van leuens te plaas.

·        Die Gees skenk aan ons geloof in God en sy Seun. Die valse profeet sal mense mislei sodat hulle in Lucifer en die Antichris glo.

·        Die Heilige Gees vertroos ons, en bemoedig en versterk Christene om geregtigheid te doen. Die valse profeet sal mense verskrik, en ook aanhits en bemagtig om die ongeregtigheid te doen.

·        Die Heilige Gees skenk goddelike gawes aan mense om die Here beter te kan dien. Die valse profeet sal demoniese magte aan mense skenk om wonderwerke te doen en ander te mislei.

·        Die Heilige Gees leer ons om God te aanbid en sodoende lewe te verkry. Die valse profeet sal mense dwing om die dier se beeld te aanbid en sodoende hulle eie verdoemenis te bewerk.

·        Die Heilige Gees verseël elkeen wat in Jesus glo as ‘n kind van God. Die valse profeet sal die mense mislei om hulleself met die merk van die dier te laat verseël.

Ideologiese breinspoeling deur die valse profeet

Die valse profeet sal die ideologiese en godsdienstige breinspoeling van die mensdom namens die Antichris onderneem. Hy sal óf uit die alliansie van valse wêreldgodsdienste kom, of in ‘n kort tydjie volle beheer oor hulle verkry. Die godsdienste van die wêreld sal dan ingespan word om al hulle volgelinge aan die regering van die Antichris dienstig te maak en ook die dier te aanbid. Openbaring 13:14-18 sê duidelik dat die valse profeet die wêreld sal mislei om die dier te aanbid én sy nommer op hulle regterhand en voorkop te ontvang. Die wêreld moet dus staatkundig, godsdienstig én ekonomies onder die vaandel van die Antichris verenig word.

Die denkwyse wat onderliggend aan die Antichris se wêreldryk is, is monisme, wat beteken: alles is een. Dié eenheidsideaal het twee perspektiewe, nl. die horisontale, menslike dimensie en die vertikale, kosmiese dimensie:

'n Verenigde wêreld

Eerstens moet 'n verenigde wêreld geskep word deurdat daar op alle lewensterreine brûe gebou en grense uitgewis word. Sosiale eenheid moet geskep word met die oog op die totstandkoming        van 'n geïntegreerde groep van wêreldburgers wat nie-seksisties, nie-rassig, multi-godsdienstig en multi-kultureel is. Polities moet daar ook 'n internasionaliseringsproses plaasvind wat na die vestiging van 'n wêreldregering sal lei. Die Ekumeniese Beweging moet hom vir die bereiking van godsdienseenheid in die wêreld beywer, terwyl ekonomiese eenheid ook nagestreef moet word. Hierdie boustene van die nuwe wêreldorde word as noodsaaklik vir die bereiking van harmonie en vrede beskou, asook vir die realisering van die lank verwagte Utopia op aarde.

Die Antichris het 'n eenheidsideologie en hervormings van hierdie aard nodig om as 'n vredevors, politieke wêreldleier, wêreldmessias en die hoof van 'n wêreldekonomie op die toneel te verskyn. Hoe meer nasionalistiese en godsdienstige verdeeldhede daar is, hoe geringer is sy kans om 'n internasionale bestel onder sy leiding te vestig. Die Nuwe Era Beweging, die nuwe wêreldorde en die Ekumeniese Beweging is egter kliphard besig om 'n denkklimaat van globalisme en internasionale aanvaarbaarheid vir hom te skep. Hulle sal dit in ‘n toenemende mate doen nadat die valse profeet op die toneel verskyn het.

Kosmiese eenheid

Die tweede perspektief van monisme is dié van kosmiese eenheid. Daar moet met die geesteswêreld in die kosmos kontak gemaak en van kosmiese energie vir die verdere ontwikkeling van die mens na hoër vlakke van goddelikheid gebruik gemaak word. Mense moet geleer word om met geestelike gidse en meesters van wysheid in die kosmiese sfere in verbinding te tree, sodat die hoër wesens elke persoon kan help om sy eie potensiaal te ontwikkel en op die evolusieleer na die vlak van homo universalis (die universele mens), ook genoem homo novus (die nuwe mens), te vorder. Die hele menslike familie moet ook kollektief gehelp word om die oorgang na die bedeling van Akwarius te maak. Benewens spiritisme en ander tegnieke, word meditasie as een van die belangrikste metodes gepropageer om 'n alternatiewe bewussynstoestand te ontwikkel en buitesintuiglik met die hoër kosmiese wêreld een te word.

Die valse pofeet sal baie hoog in die hiërargie van kosmiese meesters van wysheid wees. Hy sal die tweede plek ná die Antichris beklee en in staat wees om skouspelagtige tekens en wonderwerke te doen. Hy sal selfs vuur uit die hemel kan laat neerdaal, en volgens Openbaring 13:14 sal die bewoners van die aarde inderdaad hierdeur mislei word om die dier na te volg en te aanbid.

Die valse profeet sal die ideologie van “alles is een” tot in sy uiterste konsekwensies toepas. Dit beteken dat alle gelowe ook een is, dat daar net een Messias vir die hele wêreld is, nl. die Antichris, en dat daar geen teenpool van ‘n duiwel en ‘n hel is nie. Lucifer gaan dus as ‘n engel van die lig in die plek van God gestel en aanbid word. Die enigste negatiwiteit in dié ideologie is diegene wat nie die ongekwalifiseerde eenheidsgedagte wil aanvaar en implementeer nie. Dit sal hoofsaaklik die evangeliese Christene wees.

Dit is duidelik dat 'n Christelike lewens- en wêreldbeskouing lynreg met die Antichris se monistiese filosofie in botsing is. Die Bybel leer ons nie monisme nie, maar dualisme – alles is twee. Daar is twee groot en onverenigbare werklikhede waarvoor die Christen te staan kom, nl. die koninkryk van God en die koninkryk van die Satan. Hulle is totaal gepolariseerd en onversoenbaar:

Koninkryk van God

Koninkryk van Satan

Lig

Duisternis

Hemel

Hel

Waarheid

Leuen

Ware godsdiens

Valse godsdienste

Smal weg

Breë weg

God

Satan

Christus

Antichris

Heilige Gees

Valse profeet

Redding

Verlorenheid

Die denkwyses, of geestelike en ideologiese oriëntasie, van hierdie twee koninkryke kan só van mekaar onderskei word:


Die Ryk van Christus

Die Ryk van die Antichris

Antitetiese [teenstellende] denke waarin onderskeidingsvermoë beoefen moet word om teenoorgestelde waardes te bepaal.

Sintetiese [integrerende] denke waarin verskille geïgnoreer en alle dinge in 'n groter geheel saamgevoeg word.

Divergensie of uiteenloping na 'n punt van ewige skeiding tussen lig en duisternis.

Konvergensie of samevloeiing totdat alle dinge in die wêreld verenig is.

Die kosmiese sfeer van demone is verbode terrein. Geen eksperimentering met okkultiese magte en buitesintuiglike waarneming is toelaatbaar nie.

Kosmiese eenheid waarin die grens na die bonatuurlike, kosmiese wêreld vir groter kragte en 'n nuwe selfontdekking oorgesteek moet word.

Monoteïsme – God is bokant die mens en sy skeppingswerke verhewe. Hy werk in die mens maar moet nogtans deur die mens genader word in gebed. Hy is ‘n transendente God.

Panteïsme – God is in alles aanwesig, ook in die diere en die natuur. Alle mense is inherent gode. Hulle moet net die god binne-in hulle ontdek en ontwikkel om soos gode te kan leef.

Die mens is 'n unieke skepping van God. Hy staan teenoor die natuurlike skepping en moet dit onderwerp en daaroor heers.

Die mens is deel van die natuurlike skepping en die diereryk, en moet in 'n evolusieproses na hoër lewensvorme ontwikkel.

Die mens het net een lewensiklus op aarde. Dit is vir hom bestem om een maal te sterwe, en daarna kom die oordeel.

Die mens veredel homself in verskeie lewensiklusse. Hy kom deur reïnkarnasie dus meermale terug aarde toe.

Die mensdom moet besef dat hy geestelik in twee kampe verdeel is, nl. die kinders van God en die kinders van Satan. Diegene wat in die duisternis van sonde en valse godsdienste vasgevang is, word genooi om oor te kom na die lig.

Die eenheid van die menslike familie moet ook godsdienstig manifesteer. Alle gelowe moet aanvaar dat hulle dieselfde God aanbid en dus almal gelykwaardig is. Die een geloof moet nie as beter as die ander beskou word nie.

Omdat daar godsdienstig twee opponerende ryke is, gaan elkeen 'n Messias na die aarde stuur – die ware Christus en die Antichris. 'n Duidelike keuse moet tussen hierdie twee gemaak word.

Omdat alle gelowe ten diepste dieselfde oorsprong het, wag hulle ook vir dieselfde kosmiese Messias wat hulle ná sy koms sigbaar sal verenig. In voorbereiding hierop moet alle gelowe nou hande vat!

Die mens is innerlik bedorwe en verlore as gevolg van die sondeval. As hy nie weergebore word nie, is sy bestemming die hel.

Die mens is inherent goed. Daar is ook niks slegs in die heelal nie, en daar is nie 'n duiwel of 'n hel nie. Almal moet mekaar aanvaar en in vrede leef.

Daar kan in gebed met Jesus Christus kontak gemaak word by sy genadetroon, en sy vrede van sondevergifnis ervaar word wat alle verstand te bowe gaan. Hy moet in jou lewe ingenooi word.

Deur 'n selfinkering, oopstelling vir mistiese kragte en 'n meditatiewe afdaling na jou dieper self kan jy met die Christus in jou kontak maak en sy vrede ervaar. Die oplossing is reeds binne-in jou.

Gebed is onvervangbaar. Daar is nie so iets soos Christelike meditasie nie.

Transendentale Meditasie moet as model vir alle vorms van meditasie gebruik word.

Wanneer Christene kragte saamsnoer en saambid oor 'n saak, werk die Heilige Gees kragtig om mense van sonde te oortuig en hulle siele te red.

Wanneer groot groepe mense saam mediteer, kan die mensdom se omstandighede positief deur 'n invloei van kosmiese energie verander word.

Versoening tussen mens en God geskied by die kruis op grond van die soenverdienste van Jesus. Versoening tussen mense geskied op grond van samewerking, maar met die sinvolle instandhouding van kulturele, geografiese en ander grense.

Versoening tussen mense, ideologieë en gelowe geskied deur die uitwissing van grense, kompromie, eenwording en samegroeiing. Die verskillende partye moet nie hulle eie norme en groepsbelange verabsoluteer en handhaaf nie, maar vermeng raak.

Toepassing van hierdie ideologie

Daar moet goed begryp word dat die monistiese ideologie van “alles is een” ná die wegraping en die verskyning van die Antichris op alle vlakke van die samelewing gepropageer en ook afgedwing sal word. Dit sal as die enigste grondslag vir moreel korrekte waardes en ‘n lewenshouding van kompromie deur middel van sosiale, kulturele en godsdienstige vermenging en eenwording onder alle nasies op aarde beskou word. Daar sal geen ruimte vir eksklusiewe groepsregte geskep word nie – allermins ook nie vir die hoogs eksklusiewe Christelike godsdiens nie.

Uit die staanspoor sal diegene wat ‘n besluit téén die Antichris en vír Jesus Christus geneem het, hulleself van die ontluikende neo-Babiloniese wêreldsamelewing, sy kultuur, ideologie, waardes en mistiese godsdienspraktyke moet distansieer. Dit moet egter nie vir hulle om selfbehoud alleen gaan nie. Hulle moet dit as hulle taak aanvaar om die teenstellende Bybelse beginsels en waardes onder die verwarde en misleide slagoffers van die Antichris, die valse profeet en hulle nuwe wêreldorde te verkondig. Al is die risiko’s groot, is daar geen ander eerbare weg om te volg nie.

Menselewens sal soos nooit tevore nie op die spel wees, en hulle moet dringend teen geestelike misleiding, verbondsluiting met die duiwel en die ewige verderf daarna gewaarsku word. Satan probeer eers om mense se sinne deur misleiding te verblind (2 Kor. 4:4). Daarna gebruik hy hulle om sy vuil werk te doen deur miljoene ander te mislei. Hulle enigste loon hiervoor is die ewige verderf.

Die einde van die pad

Nadat die valse profeet miljoene mense deur geestelike en ideologiese misleiding aan die Antichris dienstig gemaak het, sal diegene wat hardkoppig weier om die knie voor die eindtydse Baäl te buig, summier om die lewe gebring word. Die valse godsdienste was nog altyd hatig en vyandig op die Christendom, en in die groot verdrukking sal hulle die mag én die reg kry om onder die leiding van die valse profeet volle uiting aan hulle haatveldtog teen die Christendom te gee.

Die Antichris sal saam met die valse profeet alle geestelike opposisie uit die weg ruim. Openbaring 13:7 sê: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin.” Hierna sal onreine geeste wat tekens doen, na die konings van die aarde uitgestuur word om hulle vir ‘n oorlog teen die komende Christus in Israel, en spesifiek in die stad Jerusalem, te mobiliseer. Dit sal die sataniese driemanskap se laaste daad van massamisleiding wees:

“En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God… En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Op. 16:13-16).

Wanneer Jesus tydens die hoogtepunt van die slag van Armagéddon kom, sal daar geen gesprek met Satan se regeerders gevoer word nie. Hulle sal lewendig gevang en onmiddellik in die hel gewerp word. Vir hulle ideologies en geestelik misleide wêreldmag sal dit ook ‘n baie slegte dag wees:

“Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings” (Op. 17:14). “En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:21).

Die einde van die pad van sonde en rebellie teen God is die dood. God het egter geen behae in die dood van die sondaar nie, daarom moet hy teen sy dwaasheid gewaarsku word (Eseg. 33:11).

 

18. Die Sewe Jaar van Verdrukking

Die gebeure wat in Openbaring 6 tot 19 beskryf word, speel almal binne die tydsbestek van slegs sewe jaar af. Uit Israel se oogpunt staan hierdie tyd as Daniël se sewentigste jaarweek bekend, soos in Daniël 9:24-27 beskryf. ‘n Jaarweek is ‘n periode van sewe jaar (Lev. 25:3-4). In die Nuwe Testament word die komende jaarweek waarin die Antichris sal regeer, die verdrukking en die groot verdrukking genoem (Matt. 24:21, 29; Op. 7:14). Dié sewe jaar word in twee helftes van 3½ jaar elk verdeel. Om die moontlikheid van vergeesteliking uit te skakel, word daar in Openbaring 11 tot 13 ook na dié twee tydperke van 3½ jaar as  42 maande of 1 260 dae elk, verwys.

Die eerste helfte van die verdrukking sal deur ‘n valse vrede, asook deur politieke, maatskaplike, ekonomiese en godsdienstige inisiatiewe vir die vereniging van die mensdom onder die leierskap van die Antichris gekenmerk word. Wanneer sy vredes- en eenheidspogings egter misluk, sal hy hom in die oorblywende 3½ jaar tot die ongeëweaarde gebruik van geweld wend en sodoende die bloedigste diktatuur skep wat die wêreld nóg geken het. Die honderde miljoene slagoffers wat sy bewind van terreur gaan eis, sal daarvan die grootste menseslagting van alle tye maak.

Die twee helftes van die verdrukking kan van mekaar onderskei word deur daarna as die tyd van valse vrede en die groot verdrukking te verwys. Dit is verkieslik om van die hele sewe jaar slegs as die verdrukking te praat, omdat in werklikheid net die laaste 3½ jaar daarvan die groot verdrukking is. Gedurende die eerste 3½ jaar sal die mense op aarde geestelik en polities verslaaf en gemanipuleer word, maar in die laaste 3½ jaar fisies verdruk word.

Die vraag word dikwels gevra waarom daar ‘n verdrukking onder die Antichris moet wees? Die Bybel noem die volgende sewe redes hiervoor:

·         Die Here gaan die teëhouer teen sonde en ongeregtigheid wegneem – dit is sy kerk wat as die tempel van die Heilige Gees die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde was. Hierna sal totale geestelike duisternis op aarde heers, en sal sondaars die geleentheid hê om die maat van hulle ongeregtigheid vol te maak. Die geestelike en morele verdorwenheid van die mensdom sal tot sy volle verwerkliking in die Antichris se sondekultuur kom. Die vermengde, immorele en hoogs permissiewe, neo-Babiloniese wêreldkultuur sal die uiterste vorm van die sondige mens se ideologiese en kulturele verval wees.

·         In die verdrukking, veral in die tweede helfte daarvan, sal die grimmigheid en toorn van God onmiskenbaar geopenbaar word. Hy gaan die sondaars wat hulle nie wou bekeer nie, swaar straf en oordeel. Jesaja 13:9 sê die Here sal in dié tyd die aarde ‘n woesteny maak om sy sondaars daaruit te verdelg.

·         Die koninkryke van die wêreld gaan verwoes word, saam met al die bose sisteme waarop dit berus, sodat Christus in hulle plek kan regeer (Dan. 2:44 en Op. 11:15).

·         Die koninkryk van die duisternis sal in die verdrukking tot volle openbaring kom omdat die Antichris en die duiwel openlik deur alle mense op aarde aanbid sal word (Op. 13:4). Die sonde sal hoogty vier soos nooit tevore nie.

·         Die sataniese leierskap op aarde, saam met al die strukture wat daarvoor geskep is, sal aan die einde van die sewe jaar met Jesus Christus se wederkoms, totaal vernietig en Satan gebind word (Op. 19:19-20; Dan. 11:45; Op. 20:1-3).

·         Die volk Israel sal in ‘n smeltkroes van verdrukking en benoudheid geplaas word sodat ‘n oorblyfsel van hulle gelouter, gesuiwer en gered kan word (Eseg. 22:18-20 en Sag. 13:8-9).

·         Uit die geestelik verharde nasies sal daar volgens Openbaring 6:9-11 en 7:9-17 in die verdrukking ‘n laaste siele-oes ingesamel word. Sommige sal hulleself te midde van die plae verhard, maar ander sal tot besinning kom en gered word.

In die eerste helfte van die verdrukking sal sonde en immoraliteit onder die leiding van die mens van sonde as humanistiese vryhede deur die massas beoefen word. Gedrag van dié aard sal nie as ‘n skande beskou word nie, omdat geen Christelike norme van ordentlikheid in daardie tyd sal geld nie. Ter wille van hierdie bandelose vryhede sal die Antichris aangehang en nagevolg word.

Eerste seël: die wit perd

“En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak... en kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin” (Op. 6:1-2).

Reg aan die begin van die verdrukking breek die Here Jesus die eerste seël in die hemel, en ‘n valse vredevors op ‘n wit perd (die Antichris) verskyn skielik op die aarde. Hy het slegs ‘n boog in sy hand en versteek doelbewustelik die pyle omdat sy aanvanklike optrede in die teken van vrede en versoening staan. Hy kon nie vroeër reeds verskyn het nie, omdat die teenwoordigheid van die ware kerk van Christus, as die tempel van die Heilige Gees, sy openbaring en magsoorname verhoed het (2 Thess. 2:6-8; 1 Joh. 4:1-6).

Nadat die Here sy kerk kom haal het, breek die uur van die duisternis op aarde aan. Dit bied aan die Antichris die geleentheid om na vore te tree en sy septer oor ‘n sataniese nuwe wêreldorde te swaai totdat hy sewe jaar later by die wederkoms van Christus verdelg sal word.

Die identiteit van die ruiter op die wit perd was vir baie jare lank ‘n hoogs omstrede onderwerp. Uit die konteks is dit egter baie duidelik dat dit niemand anders as die Antichris kan wees nie. Om te beweer dat dit Christus is net omdat Hy in Openbaring 19 as die ruiter op ‘n wit perd voorgestel word, is glad nie genoegsame gronde vir só ‘n stelling nie. ‘n Simbool moet altyd in die verband waarin dit gebruik word, verklaar word. So word ‘n leeu bv. in een geval gebruik om na Jesus as die Leeu uit die stam van Juda te verwys (Op. 5:5), en in ‘n ander geval weer om die duiwel te beskryf wat soos ‘n brullende leeu rondloop om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). Die wit perd van die Antichris dui op ‘n valse vrede. Daar moet in ag geneem word dat die Antichris die ware Christus wat in Openbaring 19 op ‘n wit perd kom, naboots. Hy wil in sý plek aanvaar word.

In die toneel in Openbaring 6 sit Christus op die troon en maak ‘n boek oop wat met sewe seëls verseël is. Hierin is die oordele van God oor ‘n sondige wêreld beskryf. Dit is bedoel om die duister werke van Satan tot volle openbaring te laat kom en dan vir hom, sy demone én sy misleide volgelinge te oordeel en hulle mag oor die aarde en sy bewoners totaal te verbreek.

Die Antichris se toetrede tot die wêreldtoneel as die ruiter op die wit perd sal in die teken van versoening, eenheid en ‘n godsdienstige wêreldbroederskap staan. Hy sal die finale samebindende faktor in die ekumeniese beweging en die Verenigde Godsdienste Organisasie wees. Die valse godsdienste is reeds mislei om te glo dat hulle dieselfde God onder verskillende name aanbid, maar tóg kort daar nog iets meer konkreets om hulle werklik as ‘n groep aan mekaar te verbind.

Die Antichris sal ook die sosiale en politieke grense uitwis. Hy sal ‘n neo-Babiloniese samelewing van wêreldburgers (Eng. planetary citizens) onder die leiding van ‘n Verenigde Nasies gebaseerde wêreldregering skep. Vir hierdie groot deurbrake sal hy internasionaal aangehang en geprys word. Almal sal dink dat die groot Utopia aangebreek het, en dat die Nuwe Era Beweging se beloofde bedeling van Akwarius, waarin ware broederliefde en eenheid onder alle aardbewoners heers, uiteindelik aangebreek het. ‘n Dreigende wêreldoorlog sal deur die nuwe leier se skielike en dramatiese tussenkoms afgeweer word, en kosmiese vrede spoedig oral neerdaal!

Hierdie valse vrede sal met die grootste moeite vir 3½ jaar lank in stand gehou word. Dislojaliteit en rebellie teen die Antichris se wêreldryk sal ná ‘n tyd begin ontstaan, waarna hy homself tot militêre geweld sal wend om sy ryk te bestendig en wêreldwyd te handhaaf.

Tweede seël: Die rooi perd

“En ‘n ander perd, ‘n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ‘n groot swaard is aan hom gegee” (Op. 6:4).

Leiers wat begin wankel en hul populêre steun verloor, wend hulle dikwels tot geweld en outokratiese optrede om hulle posisie te probeer handhaaf. Die Antichris sal geen uitsondering wees nie. In die middel van die verdrukking sal ‘n suksesvolle sluipmoordaanslag op hom uitgevoer word. Op ‘n wonderbaarlike wyse, deur die bemiddeling van duiwelse magte, sal hy egter uit die dood opstaan en dan sy rol as alleenheerser en militêre diktator op aarde vervul (Op. 13:3, 14). Van hierdie oomblik af sal hy die wêreld met ‘n ystervuis regeer en almal dwing om hom te aanbid.

Die Antichris sal ‘n drastiese ommeswaai van vennootskapsbeheer na alleenbeheer maak. Sy regering van internasionale eenheid sal skielik ‘n eenmandiktatuur word. Op godsdienstige gebied sal die alliansie van wêreldgodsdienste afgeskaf word (Op. 17:16) en die dier se status van Messias af tot God verhef word. Die Antichris sal homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar en die Allerheiligste ontheilig deur ‘n afgodsbeeld van homself wat deur die valse profeet in die tempel geplaas sal word (Op. 13:14; Dan. 11:31; Matt. 24:15).

Paulus sê dat hierdie rebel die teëstander is wat homself sal “verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4). Enige versuim om hom as God te aanbid, sal volgens Openbaring 13:15 met die dood strafbaar wees. Die grofste godslasterlikheid teen die ware God van die hemel en aarde sal hiermee gepaard gaan.

Die Jode sal die valse Messias openlik verwerp wanneer hy beweer dat hy God is. Hy sal dan ‘n uitwissingsoorlog teen hulle voer en hulle van die aardbodem af probeer verdelg.

As militêre leier sal die Antichris fenomenale sukses behaal, en sy ondersteuners sal in verwondering uitroep: “Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:4). Daniël sê hy sal “met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref” (Dan. 11: 44). Openbaring 13:7 sê: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie.” Hierdie vers alleen is ‘n bewys daarvan dat die kerkbedeling dan verby sal wees, want die Here het gesê dat die poorte van die doderyk sy gemeente sekerlik nie sal oorweldig nie (Matt. 16:18).

Die Antichris sal in sy bewindstermyn egter alle Christene laat doodmaak, asook Jode wat nie ontvlug het nie. Sy oorwinningstogte sal na alle kontinente uitbrei totdat alle nasies aan sy heerskappy onderwerp is.

Derde seël: Die swart perd

“En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n swart perd; en hy wat daarop sit, het ‘n skaal in sy hand..” (Op. 6:5).

Die noodwendige gevolg van oorloë en die mobilisasie van ekonomies aktiewe mans is die vinnige uitputting van ‘n land se geldvoorraad weens militêre uitgawes, die verwoesting van infrastruktuurdienste, ernstige produksieverlies en hongersnood. In ‘n poging om hierdie probleme op te los, sal die Antichris baie streng ekonomiese maatreëls instel, en deur middel van ‘n gerekenariseerde kontrolestelsel alle finansiële transaksies op aarde beheer.

Omdat lewensmiddele weens oorlogstoestande, omgewingsbesoedeling, natuurrampe en die oorbenutting van hulpbronne baie skaars sal wees, sal streng rantsoenering en beheer in elk geval onafwendbaar wees. Vir ‘n dagloon sal net genoeg kos vir daardie dag gekoop kan word. Kos sal dus só skaars en duur word dat daar nie geld vir iets anders sal wees nie. Die Antichris sal hierdie geleentheid gebruik om sy posisie te versterk, want slegs sy lojale volgelinge sal politieke en ekonomiese voorregte in sy ryk geniet.

Vierde seël: Die vaal perd

“En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg” (Op. 6:8).

Omdat die Antichris van die duiwel uitgegaan het, sal hy, soos sy vader, ook ‘n mensemoordenaar wees. Hy sal homself in die dood van miljoene mense verlustig, en ook niks daarvan dink om God se skeppingswerk op aarde te verwoes nie. Daniël sê van die Antichris: “Op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees” (Dan. 9:27). Dit beteken letterlik: “Onder die vaandel van verderflike afgodediens sal daar een wees wat puinhope maak.” Dit is presies wat hierdie hartelose diktator sal doen. Hy sal deur sy voortgesette oorlogvoering menselewens verwoes en gaandeweg die hele aarde in ‘n verlate en onbewoonbare puinhoop omskep. Hierin sal hy ‘n sadistiese genot en behae skep.

Oor hierdie toneel van verwoesting sal die makabere profiel van die ruiter op die vaal perd verrys. Dit is skrikwekkend dat hy en sy medewerkers alleen vir die dood van ‘n kwart van die aarde se inwoners verantwoordelik sal wees (sowat 1,5 miljard mense volgens die 2002 wêreldbevolking). Dit beteken dat dié tiran se slagoffers byna 30 keer meer as Wêreldoorlog II se dodetal van 52 miljoen sal wees!

“En aan hulle [dit sluit al vier die ruiters in] is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Op. 6:8).

Vyfde seël: Die Christenmartelare

Ware Christene (dié wat in die verdrukking eers tot bekering kom) sal van die begin af weet dat die Antichris ‘n valse leier is, en sal hom én die valse wêreldkerk verwerp. Vir hulle sal daar in die kortstondige ryk van die dier net een pad wees en dit is vervolging, marteling en die dood. Hoewel hulle die fisiese stryd teen die Antichris sal verloor (hy sal volgens Openbaring 13:7 oorlog voer teen die heiliges en hulle oorwin), sal hulle die geestelike stryd teen hom nogtans wen en nie die knie voor hom hoef te buig nie:

“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie” (Op. 12:11).

Hulle sal dus as oorwinnaars sterf! Die getroue getuies van Jesus sal nie ter wille van hulle tydelike belange, bv. hulle werk en die reg om te koop of te verkoop, die Antichris en sy nommer aanvaar nie. Hulle sal besef dat só ‘n stap na gewisse ondergang en verdoeming in die hel sal lei. Wanneer hulle in die hemel aankom, sal hulle die Here vra om hulle dood op die Antichris en sy barbaarse magte te wreek:

“En toe hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van dié wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons dood op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees” (Op. 6:9-11).

Hier word dit as ‘n feit gestel dat die martelare se oorlewende medebroeders op aarde almal gedood sal word. Daarna sal hulle getal in die hemel eers vol wees. Die feit dat hulle in die hemel ernstig tot God sal roep om hulle dood op die aardbewoners te wreek, dui onmiskenbaar daarop dat hulle op ‘n baie wrede wyse vervolg, gemartel en doodgemaak sal word. Hulle sal tot God roep om in te gryp, omdat die Antichris oënskynlik op die punt sal staan om die Christendom op die aarde totaal uit te roei.

Sesde seël: natuurrampe

Die groot rampe en plae wat in die verdrukking oor die aarde kom, sal duidelik as oordele van die Here erken word. Die toestand sal na die einde toe só haglik word dat die sondaars deur groot vrees oorweldig sal word. Hulle sal paniekbevange na die berge wegvlug omdat hulle sal besef dat die Here se toorn oor die aarde en sy bewoners uitgestort word:

“En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle versteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:12-17).

Brandende hemelliggame sal oral op die aarde val. Dit kan komete, meteore of brokstukke daarvan wees, m.a.w. meteoriete, of ook asteroïdes, wat met verwoestende gevolge die aarde sal tref. Terselfdertyd sal groot aardbewings plaasvind, asook ernstige lugbesoedeling, sodat die sonlig verduister sal word. Mense sal nie in die stede waarin hoë geboue sal omval, kan oorleef nie. Hulle sal vreesbevange na die berge vlug en besef dat die vreeslike dag van die Here se toorn aangebreek het. Nogtans sal die meeste van hulle, soos gedurende die tien plae in Egipte, hulle harte verhard en hulle nie bekeer nie.

Sewende seël: aankondiging van die sewe basuine

In Openbaring 8:1-2 word die sewende seël oopgemaak. Dit lei na verdere oordele wat deur sewe engele met basuine aangekondig word. Hierdeur sal ‘n tweede golf van oordele oor die aarde spoel. Nóg later sal ‘n derde, en veel erger golf van oordele deur middel van die sewe laaste plae oor die aarde kom. Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God!

Het u ‘n geopende oor om te hoor wat die Gees aan die gemeente wil sê? Die Heilige Gees oortuig ons nie net van ons sonde en verlorenheid nie, maar ook van Christus se geregtigheid en reddende genade, asook die oordele oor die goddeloses wat aan die kom is. As ons onsself deur Jesus Christus tot God bekeer, kom ons nie in die oordeel nie, maar gaan oor uit die dood in die lewe (Joh. 5:24).

Die basuine is oordele wat in die verdrukking uitgestort gaan word, waarin in die meeste gevalle ‘n derde van hulle teiken vernietig word. Sowel die fisiese skepping as die mensdom sal hierdeur geraak word. Die eerste vier basuine het ‘n gedeeltelike ekologiese ineenstorting op aarde tot gevolg. Baie mense en diere sal as gevolg hiervan sterf:

Eerste vier basuine: ekologiese ineenstorting

“En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ‘n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand. En die tweede engel het geblaas, en iets soos ‘n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En ‘n derde van die see het bloed geword, en ‘n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en ‘n derde van die skepe het vergaan. En die derde engel het geblaas, en ‘n groot ster wat soos ‘n fakkel brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op ‘n derde van die riviere en op die waterfonteine. En die naam van die ster word genoem Alsem; en ‘n derde van die waters het als geword, en baie mense het gesterwe van die water, omdat dit bitter geword het. En die vierde engel het geblaas, en ‘n derde van die son is getref en ‘n derde van die maan en ‘n derde van die sterre, sodat ‘n derde van hulle donker sou word en die dag vir sy derde deel nie lig sou gee nie, en die nag net so” (Op. 8:7-12).

Hieruit is dit duidelik dat groot dele van die see sowel as varswaterbronne, bome, gras en ook die lig van die son, maan en sterre met vernietigende gevolge getref gaan word. Die vuur, asook die voorwerp wat soos ‘n brandende berg in die see val, kan moontlik brandende meteoriete, asteroïdes of brokstukke van ‘n komeet wees wat in die aarde se atmosfeer weens hitte aan die brand slaan. Van hierdie rampe kan egter ook mensgemaak wees, bv. kernmissiele wat buite beheer raak en met verwoestende gevolge op verskillende plekke in die see of op land val en ontplof. Behalwe die ernstige skokgolwe wat geboue vir kilometers sal platvee, sal daar ook groot brande ontstaan. Ontploffings in die see sal golwe veroorsaak waardeur eilande en laagliggende kusgebiede oorstroom sal word. Duisende skepe sal ook vergaan en seediere vrek.

Benewens die feit dat die Here oordele oor die aarde gaan uitstort, verhaas die mens ook deur sy eie optrede ‘n ekologiese ineenstorting op aarde. Daar is verskeie tekens dat daar geweldige natuurrampe aan die kom is. Volgens wetenskaplikes vind daar ‘n verhitting van die wêreld se klimaat plaas as gevolg van die groot hoeveelhede koolsuurgas en ander besoedelende stowwe wat in die atmosfeer vrygestel word. Ernstige skade is al aan die osoonlaag rondom die aarde aangerig, en groot gapings het daarin ontstaan. Hierdie beskermende laag is ‘n skild teen ultravioletstrale, en die vertering daarvan deur skadelike gasse hou groot gesondheidsgevare in. Dit verhoog die risiko van velkanker aansienlik.

Steeds neem die besoedelingsverskynsel groter afmetings aan. Gasse wat deur verskeie fabrieke in die lug vrygestel word, lei na suurreën. As gevolg hiervan is daar al plantasies en natuurlike woude in baie dele van die wêreld vernietig. Neem hierby ook nog die oorbenutting en verwoesting van natuurlike hulpbronne in ag, asook die enorme skaal waarop die riviere, mere en oseane deur fabrieksafval, ru-olie en gifstowwe besoedel word, en ons het die bestanddele vir ‘n vernietigende ekologiese ramp.

Klimaatsveranderinge veroorsaak ook ‘n duidelike polarisasie in weersomstandighede. Dit kan in die toenemende droogtes en oorstromings, asook in uiterste hoë en lae temperature, waargeneem word. Enersyds word miljoene mense deur nader kruipende woestyne bedreig, terwyl baie lande weer deur buitengewone hoë reënval, oorstromings en tifone geteister word. Dié uiterste toestande het ‘n baie nadelige effek op oeste en kan dit selfs totaal verwoes. Vir die vinnig toenemende wêreldbevolking voorspel dit sekere hongersnood en ellende.

Deur die vernietigingswerk wat inhalige, roekelose en onverskillige mense aan die aarde en sy natuurlike hulpbronne verrig, tesame met die kragte van die hemel wat geskud gaan word as die oordele van God oor die goddelose mense uitgestort word, sal die aarde in ‘n ál meer onleefbare toestand verval. Die Here het gesê die mens moet die skepping onderwerp en daaroor heers. Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op hom, want hy moet die kragte en prosesse van die natuur beheer en dit teen oorbenutting en uitwissing beskerm. Omdat die mens egter sy eie leefwêreld verwoes, gaan die Here toelaat dat sy fisiese oorlewingskanse ook in die weegskaal beland deurdat hy sy eie ondergang bewerk het.

Vyfde en sesde basuine

Die oordele van die groot verdrukking gaan egter nie net die fisiese skepping tref, en sodoende onregstreeks ook die mens nie. Baie daarvan sal regstreeks op die mensdom losgelaat word omdat hy deur sy sondigheid die oorsaak van al hierdie ellende is. In die oorloë en ander rampe wat die mens oor homself bring, speel demone altyd ‘n groot rol. Hulle is die aanhitsers tot geweld, en hulle gaan van die duiwel, die Antichris en die valse profeet af uit.

Die vyfde en sesde basuine kondig geweldige rampe oor die mensdom aan – die een plaag deur pyniging en die ander een deur die dood. In Openbaring 9:1-11 word vreemde insekte beskryf wat soos harige sprinkane lyk met sterte soos skerpioene, gesigte soos dié van mense, met lang tande en iets soos krone op hulle koppe. Hulle sal uit ‘n put opstyg waaruit ook rookwolke kom wat die sonlig sal verduister. Hierdie diertjies sal die mense met hulle angels steek en vyf maande lank pynig sodat hulle sal wens hulle sterf. Die dood sal egter vir hulle wegvlug. Daar is kenners wat meen dat dié diertjies demone is wat mense sal treiter. Hulle herkoms uit die put van die afgrond suggereer duidelik só ‘n moontlikheid.

In Openbaring 9:13-19 word die sesde basuin aangekondig. Dit is ‘n beskrywing van hoe die konings van die Ooste, dit is Sjina en sy bondgenote, ook vir die oorloë van die groot verdrukking gemobiliseer sal word. ‘n Kwart van die totale wêreldbevolking is Sjinese. Hierdie sluimerende reus sal eers in die groot verdrukking wakker word en dan sy skrikwekkende vernietigingswerk aanrig. ‘n Mag van 200 miljoen Asiate sal oor die Eufraatrivier trek en die Midde-Ooste, asook die Westerse wêreld, binneval. Hulle sal ‘n baie groot slagting aanrig en ‘n derde van alle mense op aarde doodmaak:

“En [die stem uit die altaar] het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat. Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend [dit is 200 miljoen]; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood” (Op. 9:14-18).

Die Eufraatrivier is die skeiding tussen Oos en Wes. Die groot eindtydse vyand van Israel én die vrye wêreld kom van oorkant die Eufraat. Vier engele is hier gebind tot op die jaar, maand, dag en uur wanneer hulle losgelaat sal word om met die behulp van hierdie Oosterse vyand ‘n derde van alle mense dood te maak. Dié vier engele is demone, omdat goeie engele nooit gebind word nie. Hulle sal 200 miljoen soldate tot hulle beskikking hê.

Die vreemde beskrywing van oorlogsperde met vuur en rook wat uit hulle bekke gaan, is nie doelbewuste simboliese taal nie, maar die gevolg van die feit dat Johannes met sy woordeskat van die eerste eeu nie oor begrippe beskik het om moderne oorlogswapens mee te beskryf nie. Moontlik het hy tenks met moderne wapentuig gesien en dit was die enigste manier waarop hy dit kon beskryf. Daar is verskeie aanduidings in Openbaring dat kernwapens in die oorloë van die groot verdrukking gebruik sal word, omdat buitengewone verwoesting aangerig sal word.

Grootskaalse geestelike verhardheid onder mense sal tydens die apokaliptiese plae voorkom:

“...en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie” (Op. 16: 9).

Mense wat die Vader, die Seun en die Heilige Gees laster en ook die versoeningswerk aan die kruis bespot en minag, word uiteindelik aan die verharding van hulle bose harte oorgegee (Heb. 10:26-31). In die groot verdrukking sal daar siekte- en rampgeteisterde oorlewendes wees wat hulle te midde van al die sterwende mense en ontbindende lyke rondom hulle, nog steeds nie van hul satanisme, hoerery en ander sondes sal bekeer nie:

“En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en diefstalle nie” (Op. 9:20-21).

Die vier groot sondes van die verdrukking is die volgende:

1.    Geweldsmisdade: revolusies, burgeroorloë, militêre staatsgrepe opstande, gewapende roof, aanranding, moord, marteling en die mishandeling van mense en diere.

2.    Okkultisme: towery en waarsêery, die beoefening van Oosterse, mistiese gelowe, transendentale meditasie, joga, spiritisme, astrale projeksie, afgodediens en satanisme.

3.    Seksuele losbandigheid: buite-egtelike verhoudings, pornografie en onbeteuelde wellus, hoerery, owerspel, prostitusie, homoseksualisme en lesbinisme.

4.    Ekonomiese vergrype: uiterste geldgierigheid, dobbelary, diefstal, korrupsie, omkopery, afpersing, intimidasie en onregmatige selfverryking deur die verarming van ander.

Mense wat reeds openlik vir Satan en sy werke kant gekies het, se sinne is so totaal verblind dat hulle die leuen glo en die waarheid aanhoudend verwerp, terwyl hulle volspoed en sonder nadenke na die verderf voortsnel. Dié wat vuil is, word nóg vuiler. Teen die einde van die groot verdrukking sal die laagtepunt van verval bereik word waartoe die Satan, die Antichris en die valse profeet die dekadente en God-verwerpende mensdom van die eindtyd sal kan beïnvloed en aftrek.

Sewende basuin

Tussen die sesde en sewende basuine is daar ‘n kort verposing. In Openbaring 10 word verwys na sewe donderslae wat hulle stemme laat hoor het, maar Johannes is verbied om hulle boodskap op te skryf. Hierna het ‘n engel op die see en die land gestaan en gesweer dat die tyd verby is. Hy het ‘n boekie in sy hand gehad, en Johannes is beveel om die boekie te neem en op te eet en weer oor baie volke en nasies te profeteer. In sy mond was die boekie soet soos heuning, maar dit het nogtans sy maag bitter gemaak.

So is dit dikwels met die boodskap van God aan sy profete. Dit is soet in hulle mond as hulle dit verkondig, maar dit het bitter nagevolge as die mense die boodskap verwerp en die profete vervolg of doodmaak. Dit mag die profeet egter nie afskrik of daarvan weerhou om die oordele van God hard en duidelik aan ‘n sondige wêreld te verkondig nie. Mense se tydelike én ewige lotgevalle hang ten nouste daarvan af of hulle guns in die oë van die Here vind, en of hulle die voorwerpe van sy toorn is. Dit is dus uiters belangrik om sy woord te gehoorsaam en betyds op sy waarskuwings ag te slaan. Selfs al wil mense nie luister nie, moet die woord van die Here nogtans aan hulle verkondig word.

Wanneer die sewende basuin blaas, word die geweldigste oordele van alle tye oor die aarde aangekondig. Die konings van die aarde sal onder die invloed van demoniese misleiding en aanhitsing na Armagéddon optrek om in die dal van beslissing deur die Here verdelg te word. Die kragte van die hemel sal ook geskud word soos nooit tevore nie, dan sal die Seun van die mens kom in groot krag en heerlikheid. Hy sal gerig hou met sy vyande, die ryk van die Antichris totaal vernietig en self die koningskap op sy skouers neem:

“En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid. En die vier-en-twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone sit, het op hulle aangesig geval en God aanbid en gesê: Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U die groot mag aangeneem en as koning geheers het” (Op. 11:15-17).

Deur die oordele wat hierna uitgestort gaan word, sal die aarde in ‘n haas onleefbare toestand omskep en sy natuurlike hulpbronne totaal verwoes word. Die mensdom sal op die randjie van algehele uitwissing te staan kom, en miskien dan eers besef wat die Here Jesus 2000 jaar gelede al oor hierdie tyd gesê het:

“…dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22).

Die goeie nuus van die Bybelse profesieë oor die eindtyd is dat die verskriklike oordele wat kom, in Christus Jesus ontvlug kan word! Die kennis van die profetiese woord plaas jou nie in ‘n doodloopstraat sonder enige uitkoms nie, maar dit stel jou voor ‘n baie belangrike uitdaging om nóú jou saak met God reg te maak. Hoe groot is die Here se genade nie, dat selfs te midde van die ergste verdrukking wat kom, siele nog steeds gered kan word – al bevind hulle hulself in die donkerste uur van die wêreldgeskiedenis!

Vir die goddeloses met verharde en onbekeerlike harte, word die slegte nuus gaandeweg ál hoe slegter. Die oorlewingskanse word ál hoe minder, en aan die einde van die pad van rebellie en sonde wag die ewige dood! Die Antichris is ‘n doodsengel wat geen lewe aan enigeen kan bied nie.

In Openbaring 16 word ‘n baie donker prentjie van God se oordele tydens die wederkoms van Jesus Christus  geskilder. In die gebeure nét voor en tydens die slag van Armagéddon gaan die Antichris se aanhangers met bose swere geteister, en die natuurlike hulpbronne van die wêreld vernietig word. In ‘n ekologiese ramp van ongekende afmetings sal alle seelewe vrek en varswaterbronne totaal besoedel en ondrinkbaar raak.

Mense, diere en plante sal eers deur ‘n groot hitte geskroei word, en daarna sal alle lig van die hemelliggame uitgedoof word. In die duisternis van God se oordele sal vernietigende aardbewings en verwoestende haelstene die aarde en sy oorlewende bewoners tref. Dit sal sal só erg wees dat geboue in alle stede op die aarde sal intuimel. Bergreekse sal platgemaak word en eilande onder die see verdwyn. Te midde van hierdie apokaliptiese rampe sal soldate van alle nasies onder demoniese aanhitsing na die Midde-Ooste optrek om teen die komende Messias, Jesus Christus, te veg en ook die oorblyfsel van Israel te probeer verdelg. Johannes beskryf die sewe skale só:

“En ek het ‘n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit. Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het. En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van ‘n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe. En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword. En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien… “En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om mense met vuur te skroei. En die mense is geskroei met ‘n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie. En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn; en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie. “En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word. Ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God… En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon. “En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ‘n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar [dit is 50 kilogram], het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was” (Op. 16:1-21).

Die eerste skaal is ‘n oordeel wat op mense gerig word, en dit tref die aanhangers van die Antichris. Die bose swere kom op almal wat die merk van die dier ontvang het en sy beeld aanbid. Dit is al die misleides wat ‘n verbond met Satan se verteenwoordiger, die Antichris, gesluit het om sy nommer ter wille van ekonomiese oorlewing te aanvaar in ruil vir hulle siele. Hulle aanbid die Antichris, en ontvang voor die wederkoms reeds die vergelding van die Here in hulle liggame wat hulle deur Satan laat merk het.

Die tweede skaal tref al die oseane van die wêreld – nie net ‘n derde daarvan soos in die geval van die basuine nie. Die water daarvan word soos bloed, en alle seediere vrek. ‘n Ramp van hierdie omvang sal die mens van ‘n belangrike voedselbron ontneem, hongersnode veroorsaak, pessiektes deur ontbindende seediere in die hand werk, mense van die kusgebiede af laat wegvlug en seevaart haas onmoontlik maak.

Die derde skaal word op die riviere en fonteine uitgegooi en laat die water daarvan in bloed verander. Sodoende word oorlewingskanse op land ook drasties verminder en staar miljoene mense en diere ‘n gewisse dood in die gesig.

Die vierde skaal word op die son uitgegooi en bring ongekende hittegolwe mee. Groot uitbarstings sal op die son voorkom, en moontlik sal die osoonlaag dan omtrent vernietig wees. Behalwe vir die toenemende hitte sal skadelike ultravioletstrale sere en velkanker veroorsaak by mense wat aan direkte sonstrale blootgestel word.

Die vyfde skaal word oor die wêreldryk van die Antichris uitgegiet, en hul dit in totale duisternis. Mense sal angsbevange in die duisternis rondtas terwyl God se oordele oor hulle uitgegiet word. Omdat hulle reeds hulle siele aan Satan verkoop het deur die merk en nommer van die dier te aanvaar, sal hulle God laster oor al die plae. Sulke mense sal dan nie meer onder sonde-ooruiging kan kom om gered te word nie, omdat hulle reeds die krag van die dwaling ontvang het om die leuens van Satan te glo.

Die sesde skaal word oor die Eufraatrivier uitgegooi en laat dit opdroog sodat die Oosterse nasies droogvoets daardeur kan trek om ook by Armagéddon aan daardie groot oorlog van die Almagtige God deel te neem. Onder demoniese misleiding sal ‘n reuse leër van 200 miljoen Asiatiese soldate optrek soos skape na die slagpale toe om deur die vernietigende oordele van God getref te word. Gedurende hulle opmars sal hulle egter ‘n derde van alle mense verdelg, soos wat in Openbaring 9:14-19 beskryf word. Dink daaraan dat daar nouliks 200 miljoen mense op aarde was toe Johannes hierdie profesie geskryf het. Vandag kan Sjina alleen meer as 200 miljoen soldate mobiliseer indien hy al sy weerbare manne oproep.

Die sewende skaal het die grootste aardbewing tot gevolg wat daar nog ooit op aarde was. Die stede van die nasies sal val en in baie dele van die wêreld, insluitende Israel, sal die landskap tot ‘n groot mate deur die aardbewings verander word. Die verwoesting deur die aardbewings sal Jerusalem in drie dele verdeel en Babilon totaal vernietig. Die skuddings sal ook met ongekende haelstorms gepaard gaan. Vir haelstene van 50 kilogram om te val, beteken dit dat daar geweldige hoë temperature moet wees sodat die vog deur die stygende warm lug tot buitengewone hoë hoogtes opgevoer kan word. Die voorkoms van sulke hittegolwe word in Openbaring 16 bevestig. Jesaja sê hieroor:

“En die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as die Here die breuk van sy volk verbind en die wond gesond maak wat aan hulle geslaan is” (Jes. 30:26).

Die dag wanneer die Here kom om die oorblyfsel van sy volk te red en die nasies te oordeel, sal ‘n dag van verskrikking wees wanneer die kragte van die hemel geskud sal word. Baie van die Ou Testamentiese profete het profesieë oor die dag van die Here uitgespreek. Mense sal enersyds deur skroeiende hitte en droogtes geteister word, en andersyds deur verstikkende duisternis en die gerammel van geweldige aardbewings. Die sondaars wat hulle harte verhard het, sal saam met hulle handewerk verbreek word en op die puinhoop van ‘n verwoeste aarde beland:

“Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. Want die sterre van die hemel en sy Orions sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie. En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir. Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die Here van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed” (Jes. 13:9-13).

Daar is baie meer sulke ernstige waarskuwings oor die oordele van die dag van die Here opgeteken, sodat mense nie die realiteit daarvan ligtelik opsy moet skuif nie. Die ontsettende omvang van die verwoesting, die redes daarvoor, naamlik ‘n uiters sondige geslag mense soortgelyk aan dié in die tyd van Noag en Lot, asook die feit dat dit oordele van God is, word telkens beklemtoon:

“Kyk, die Here maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners... Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek... Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners: want hulle het die wette oortree, en die insettinge geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy inwoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor” (Jes. 24:1, 3, 5-6). “So sê die Here van die leërskare: Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ‘n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde. En die wat deur die Here verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees” (Jer. 25:32-33). “Maar dié dag behoort aan die Here Here van die leërskare, ‘n dag van wraak, om wraak te neem op sy teëstanders; en die swaard sal verslind en versadig en dronk word van hulle bloed; want die Here Here van die leërskare het ‘n slagoffer in die Noordland, by die Eufraatrivier” (Jer. 46:10).

Oor die slag van Armagéddon, wat die Here se strafgerig teen die ongehoorsame nasies is, sê Joël die volgende:

“Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom… Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Josafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het… Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die Here in die dal van beslissing! Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in” (Joël 2:31 en 3:1-2, 14-15).

Die dal van Josafat verwys na die dal van Kidron in Jerusalem. Baie van die Antichris se magte sal hier saamgetrek wees in afwagting op Jesus se verskyning op die Olyfberg aan die einde van die sewe jaar lange regering van die Antichris. Die ander magte van die Antichris sal in Noord- en Sentraal-Israel ontplooi wees, terwyl sommige nog by die Eufraatrivier sal wees. Wanneer die duisternis van God se oordele oor hulle toesak, sal baie van hierdie soldate mekaar begin doodmaak:

“En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sag. 14:12-13).

As deel van die val van die Antichris se bose sentrums wat hy opgerig het, word die groot Babilon in die rampe en aardbewings van die einde van die groot verdrukking verwoes. Hierdie aardbewings en ander natuurrampe sal Israel ook tref waar die vyandelike magte gemonster is, en dit sal die stad Jerusalem in drie dele verdeel (Op. 16: 19). Dit is egter duidelik dat hierdie rampe oor die hele aarde sal voorkom.

Die Here Jesus het in sy profetiese rede na hierdie verskriklike tyd vlak voor sy wederkoms verwys toe Hy gesê het:

“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer die see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid” (Luk. 21:25-27).

Die Here sal Homself in heerlikheid aan die oorblyfsel van die volk Israel openbaar, maar Hom in daardie dag uitermate op sy vyande wreek. Dan sal Hy sy regering van geregtigheid vestig.

 

19. Die Wederkoms

Tydens die slag van Armagéddon, op die laaste dag van die groot verdrukking, sal Jesus Christus op ‘n wit perd op aarde verskyn, gevolg deur ‘n hemelse leër en al sy heiliges, en tot die stryd teen sy vyande toetree:

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer… “En Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. “En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot. “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees (Op. 19:11-21).

Die wederkoms van Jesus wat in Openbaring 19 beskryf word, sal soos die weerlig van oral af gesien kan word, maar fisies kom Hy na Jerusalem terug, na dieselfde plek op die Olyfberg vanwaar Hy na die hemel opgevaar het. Net ná sy hemelvaart het twee engele aan die groep mense op die Olyfberg gesê: “Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand. 1:11). Sagaria beskryf die wederkoms van Jesus só:

“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge – want die dal van die berge sal loop tot by Asal – en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:4-5).

Die Here Jesus kom dus saam met sy heiliges wat voor die verdrukking reeds weggeraap en met Hom verenig is. Paulus het aan die gemeente gesê: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4).

Versoening met Israel

By hierdie geleentheid, wanneer die Olyfberg sal oopskeur en geweldige aardbewings oor die hele wêreld voorkom, sal daar ‘n baie dramatiese versoening tussen Jesus en die oorblyfsel van Israel plaasvind. Tydens die monstering van antichristelike magte in en om Jerusalem, asook in ander dele van Israel en die Midde-Ooste, sal die Jode wat in die woestyn ontvlug het, ten spyte van die groot gevaar wat dit vir hulle sal inhou, na die Olyfberg optrek om die koms van die Messias te aanskou.

Hulle sal volgens die profesieë in Daniël 12 weet dat daar 3½ jaar sal verloop sedert die dag dat die valse messias hom in die tempel tot God verklaar het, totdat die ware Messias sy verskyning sal maak. Daniël 12:11 sê: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop.” Net voordat die Groot Versoendag van die einde van dié tyd aanbreek, sal hulle ongewapend in naakte geloof na die Olyfberg optrek.

Tydens die benoudheid van die groot oorlog van Armagéddon sal hulle na Jerusalem gaan. In ‘n stadium sal hulle uitwissing in die gesig staar en dink dat hulle hoop verlore is, dat dit klaar is met hulle. Dan sal die Messias egter kom, die Olyfberg sal middeldeur split en die duisternis van God se oordele oor die vyande van Christus en van Israel toesak. Die optrekkende Jode sal hulle toevlug in die rotsskeure van die Olyfberg neem om die agtervolgende leërs van die Antichris te ontkom.

Die Jode sal baie verbaas wees om op dié dag te sien dat hulle Messias, soos deur Sagaria beskryf, merke in sy hande het. Wanneer hulle die spykermerke in Jesus se hande sien, sal hulle vra: “Watter wonde is daar tussen u hande?” Dan sal Hy antwoord: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6). Dit sal ‘n hartroerende oomblik wees wanneer Israel groot berou oor hulle sondes sal hê, en veral oor die feit dat hulle vaders die ware Messias tydens sy eerste koms vals beskuldig en verwerp het.

Verwysende na sy versoening met die oorblyfsel van die volk Israel, sê die Here: “Ek sal die skuld van hierdie land op een dag uitdelg” (Sag. 3:9). In Sagaria 13:1 word dit só beskryf:

“In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid.”

Jesus sal die gelouterde, voortvlugtende en treurende oorblyfsel van sy volk aanneem en troos deur te sê: “Dit is my volk!” Hulle sal in antwoord hierop uitroep: “Die Here, my God!” (Sag. 13:9). Jesaja sê: “Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die Here” (Jes. 59:20). Paulus sê: “…en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26).

Die gerig met die nasies

Wanneer die Here Jesus sy voete op die Olyfberg sit, sal die duisternis van God se oordele oor die aarde toesak. Dit sal ‘n fisies waarneembare duisternis wees, soos tydens sy kruisiging toe dit in die middel van die dag drie ure lank donker was:

“En in dié dag sal daar geen lig wees nie… maar teen die aand [dit is laat middag] sal dit lig word” (Sag. 14:6-7).

Die Here sal sy vyande tref met die swaard wat uit sy mond uitgaan. Hy sal net ‘n woord spreek wat tot hulle ondergang sal lei. In die donkerte sal hulle nie die Israeliete verder kan agtervolg nie en ook nie enige poging kan aanwend om Christus en sý leërs aan te val nie. In plaas daarvan sal hulle mekaar begin doodmaak:

“Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem… En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant… En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sag. 14:2-4, 12-13).

Die wyse waarop die nasies versamel sal word, sal wees deur bose geeste los te laat wat hulle in die verhardheid van hulle bose harte verder sal verlei om op te trek na die Midde-Ooste en teen Christus en sy hemelse leër, asook teen Israel, oorlog te voer. Johannes sê hierdie onreine geeste is “geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God. En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Op. 16:14-16).

Verdelging van die Antichris en die valse profeet

Die Antichris se laaste groot teiken sal Christus self en sy hemelse leërmag op die dag van sy wederkoms wees. Hy sal besef dat Jesus se koms die einde van sy koninkryk sal beteken, daarom sal hy alles in die stryd werp om teen die ware Messias te veg.

Dit sal ‘n totaal futiele poging wees, omdat Jesus die Koning van die konings is, wat alle mag in die hemel én op aarde het. Die Antichris sal deur hierdie konfrontasie sy eie ondergang sowel as dié van sy volgelinge bewerkstellig. Dit sal nie ‘n lang en hewige stryd wees nie, maar ‘n oombliklike verdelging van die vyandelike magte wat dit sal waag om teen Christus te veg. Daniël sê hierdie magtige koning wat ‘n skrikbewind op aarde gevoer het, “sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45).

In Openbaring 19:20 word dit duidelik gestel dat die Antichris en die valse profeet op die dag van Christus se wederkoms gevang en lewendig in die hel gewerp sal word. Die plek waar hierdie konfrontasie en oordeel sal plaasvind, is uit ‘n Bybelse oogpunt baie betekenisvol. Dit sal volgens Joël 3 in die dal van Jósafat wees, wat die Kidronvallei tussen die Olyfberg en die Tempelberg is. Josafat beteken Die Here oordeel.

Die spruit Kidron was in Bybelse tye die oostelike grens van Jerusalem. Die naam daarvan beteken die swart spruit as gevolg van die vuil afvalwater wat hierin gevloei het. Dit was ‘n onooglike terrein wat ook ‘n massa-begraafplaas vir armes was. Afgode is ook dikwels hier vernietig en tot stof fyngemaal. Van die godvresende koning Josía word gesê:

“En hy het die Asjéra uit die huis van die Here buitekant Jerusalem uitgebring na die spruit Kidron en dit by die spruit Kidron verbrand en dit tot stof vermaal… Hy het ook die Tofet verontreinig wat in die dal van die kinders van Hinnom was” (2 Kon. 23:6, 10).

Die Kidrondal sluit suid van die stad by die Hinnomdal aan, en staan daarvandaan as die vuurdal bekend. Die Hinnomdal (ge Hinnom) is die dal van die seuns van Hinnom. Hierin was die Tofet waar die afvallige Israeliete hulle kinders deur vuur aan die afgod Molog geoffer het. Afval uit die stad is ook hier gestort en aan die brand gesteek. Weens die houtstapels vir die offer van die kinders aan Molog, en ook as gevolg van die brandende afval, het die dal van Hinnom ‘n simbool van die hel geword. In die Talmoed, ‘n Joodse boek van godsdienstige oorleweringe, word gesê dat een van die poorte na die hel in die dal van Hinnom is, op ‘n plek waar rook tussen twee palmbome uit die grond opstyg.

Op grond van dié beskouing is die naam van hierdie dal in die Nuwe Testament van ge Hinnom na gehenna verander. Dit beteken die helse vuur (Matt. 5:22). Die Here het gesê dat hierdie dal se naam na Moorddal verander sou word:

“Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seuns van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie. En die lyke van hierdie volk sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak” (Jer. 7:32-33).

Hierdie dal sou sinoniem met ‘n plek van dood, verderwing, vertering deur wurms en van verbranding word, daarom is die naam vir die hel, gehenna, hiervan afgelei. Jesaja verwys ook na die aaklige lot van die mense wat van God afvallig word:

“En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees” (Jes. 66:24).

Die feit dat die dal van Kidron en Hinnom op die dag van die wederkoms van Jesus vol vyandige magte sal wees, en daardie omgewing ook die ontmoetingspunt tussen ‘n hemelse leër en die leërs van die Antichris sal wees, bring mee dat die twee groot eindtydse afgode van die hele mensdom, die Antichris en die valse profeet, ook hier in die openbaar verdelg gaan word en in die helse vuur sal neerdaal.

Die binding van Satan

Nadat die vyande van God oorwin is en die Antichris saam met die valse profeet en hulle volgelinge geoordeel is, word die duiwel in ‘n plek van bewaring opgesluit:

“En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word” (Op. 20: 1-3).

Die beskrywing van die binding van die duiwel vorm ‘n eenheid met die gebeure in Openbaring 19, en is dus een van die gevolge van die wederkoms van Jesus. Dit vind net ná die finale oordeel oor die Antichris en die valse profeet plaas, en is nie ‘n gebeurtenis wat van hierdie konteks losgemaak, duisende jare teruggeskuif en op die bedeling van die kerk van toepassing gemaak kan word nie. Aan die kruis is die oorwinning oor die duiwel wél in beginsel behaal, en ons kan dit ook in die geloof aanneem en ‘n oorwinnende lewe lei.

Dit beteken egter nie dat die Satan op Gólgota vernietig of van die stryd uitgeskakel en iewers ingekerker is nie. Inteendeel, hy het ‘n magsposisie in die wêreld (1 Joh. 5:19) en hy loop soos ‘n brullende leeu rond en kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). Hierdie waarskuwing word aan Christene gerig, sodat hulle waaksaam en nugter kan bly en hulleself met die geestelike wapenrusting van God beklee. Ons kán in die oorwinning van Gólgota leef, maar dit sal nie sonder hewige stryd en aanslae deur die sielevyand gebeur nie.

Die vrede van die Here wat ons as verlostes ervaar, beteken nie dat ons reeds in die duisendjarige vrederyk is nie. Die huidige stryd teen die duiwel en sy bose magte is nie te versoen met ‘n toestand waarin hy gebind is en dit bo hom verseël is sodat hy nie die nasies kan verlei nie. Ons is nog nie in só ‘n situasie van vrede nie, maar in ‘n stryd wat reeds deur die hele Nuwe Testamentiese bedeling voortduur en in die komende verdrukking ongekende afmetings sal aanneem (Matt. 10:34). Satan self sal die nasies aanhits om tot militêre geweld oor te gaan, na die Midde-Ooste op te trek, Israel te probeer uitwis en selfs teen die Here en sy leërs te veg.

Dit is eers met die wederkoms dat die magspel van die sataniese driemanskap vernietig, twee van hulle in die vuurpoel gewerp en die draak in ‘n verseëlde plek aan kettings van duisternis oorgegee sal word om vir die eindoordeel in bewaring gehou te word (vgl. 2 Pet. 2:4). Hier moet hy ‘n duisend jaar lank bly.

Die troon van heerlikheid

Mattheus verwys na die oordeel oor die nasies wanneer Christus ná sy wederkoms op sy troon van heerlikheid sal sit:

“Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei” (Matt. 25:31-32).

Hierdie oordeel sal ook met ‘n herordening van die internasionale gemeenskap gepaard gaan, en volke sal hulle posisie verkry of verbeur op grond van hulle vroeëre verhouding teenoor Israel. Die nasies sal nie, soos in die Antichris se Babiloniese wêreldorde, deurmekaar en geïntegreerd woon nie, maar elk in sy eie land. Wanneer die skrik van die Here by Armagéddon op hulle val, “sal hulle elkeen draai na sy eie volk toe en elkeen vlug na sy land toe” (Jes. 13:14).

Grense sal dan weer tussen volke en nasies ingestel en gehandhaaf word, omdat dit God se ordening vir volke is. In só ‘n stelsel sal alle volke nasionale sekuriteit hê deurdat hulle gebiedsintegriteit en selfbeskikkingsreg verseker sal wees. Daar sal geen oorheersing van een volk deur ‘n ander wees nie, gevolglik sal elkeen se taal en kultuur binne sy eie gebied kan gedy.

Die Bruilofsmaal van die Lam

Ná die wederkoms sal die bruilofsmaal van die Lam op die aarde plaasvind. Johannes sê:

“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf – salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” (Op. 19:7-9).

Die huwelik van die Lam en sy bruid sal in ‘n hemelse ivoorpaleis plaasvind:

“U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer… Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly. Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir… Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei… Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in” (Ps. 45:7-16).

Tydens die wederkoms sal Jesus reeds met sy bruid verenig wees, omdat sy sewe jaar tevore na Hom weggeraap is. Die huweliksbevestiging in die hemelse ivoorpaleis sal dan al afgehandel wees, maar die onthaal ná die troue, die bruilofsmaal van die Lam, sal op aarde plaasvind.

Met die wederkoms sal die bruid in die oomblik van Christus se grootste triomf deel wanneer Hy as Koning van die konings na hierdie aarde terugkeer, die mag van die vyand verbreek en ‘n regering van geregtigheid tot stand bring waarin sy diensknegte saam met Hom sal regeer. Die bruilofsmaal sal ‘n luisterryke geleentheid wees wat deur baie genooide gaste bygewoon sal word, onder andere die bekeerde oorblyfsel van die volk Israel wat kort tevore die Here Jesus as Messias aanvaar het. Hulle blydskap en vreugde in die Here sal volkome wees.

Hierna sal Jesus, die Messias-Koning, die troon van Dawid herstel en die lank verwagte Messiasryk vestig, waarna tereg as die duisendjarige vrederyk verwys word. Sy getroue diensknegte sal saam met Hom as konings regeer. Aan diegene wat as getuies en gestuurdes van Christus in hierdie bedeling getrou bevind is, sal Hy sê:

“Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19: 17).

Aan ‘n ander een wat minder produktief vir sy Heer gearbei het, sal Hy sê: “En jy moet wees oor vyf stede” (Luk. 19:19).

Ons het nóú die geleentheid om onsself aan die Here toe te wy en vir Hom te werk. By die wederkoms sal Hy ons hiervoor beloon deur genadeloon aan ons toe te ken, en in sy vrederyk sal ons saam met Hom regeer.

Sommige mense neem nie Christus se opdrag tot diensbaarheid ernstig op nie. Hy het aan sy dissipels gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Die Here Jesus se sending na die aarde moet dus deur ons voortgesit word totdat alle mense die boodskap van sy reddende genade gehoor het. Hy het gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21).

In die proses moet ons ook bereid wees om sy smaad te dra (Heb. 13:13) deurdat ons nie vir vervolging en lyding ter wille van die evangelie sal terugdeins nie. Aan die vervolgde Christene van die eerste eeu sê Paulus dat as ons saam met Christus ly, ons ook saam met Hom verheerlik sal word (Rom. 8:17; Fil. 1:29; Hand. 14:22).

Wil jy met vrymoedigheid voor die Koning van die konings verskyn wanneer Hy kom? Moet dan nie nou net aan jouself dink, ‘n lae profiel in die werk van die Here handhaaf, en huiwer om ‘n standpunt vir die evangelie van verlossing in te neem indien dit vir jou vervolging of spot mag meebring nie. Sulke mense sal óf weggewys word weens hulle onvrugbare en dooie geloof, óf hulle sal dalk gered word asof deur vuur heen en met lëe hande voor die Here verskyn.

Die oomblik van Jesus Christus se verskyning in heerlikheid is baie naby. Beywer jou om op daardie dag waardig voor Hom bevind te word en ook in sý koninkryk saam met Hom te regeer.

Die eindoordeel

Die rede waarom die duiwel nie saam met die Antichris en die valse profeet in die vuurpoel gewerp word nie, is omdat hy aan die einde van die duisendjarige ryk aangewend sal word om die latente boosheid van die ongeredde mense na vore te bring. Sodoende sal hulle werklike karakter geopenbaar word, en sal daar skeiding tussen die ongereddes en die gereddes gemaak word:

"En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid" (Op. 20:7-10).

Ná hierdie laaste groot rebellie teen die koninkryk van die hemel sal die lot van die duiwel ook verseël wees.

Telkens in die mens se geskiedenis was diegene wat die smal weg gekies het, ver in die minderheid. Dit sal ook vir die bedeling van die vrederyk geld. Wanneer die duiwel aan die einde van die duisend jaar losgelaat word, sal die meeste mense soos spelde na 'n magneet getrek word omdat hulle harte nog nie deur die Gees van God herskep is nie. Satan sal dus weer eens daarin slaag om miljoene mense te mislei en vir die laaste groot aanslag op die stad van die groot Koning, Jerusalem, te mobiliseer. Daarna sal hulle ewige nag van smarte in die poel van vuur aanbreek.

Ná die duisendjarige ryk en Satan se laaste opstand aan die einde daarvan, sal daar 'n groot wit troon in die hemel verskyn. Die tweede opstanding sal plaasvind, en almal wat sonder Christus geleef en gesterf het sal na die ewige verdoemenis veroordeel word. Die smal en die breë weg sal dan elkeen sy finale bestemming bereik – die een in die nuwe Jerusalem met sy pêrelpoorte en goue strate, en die ander een in die poel van vuur:

“En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Op. 20:15).

 

20. Die Millennium

In die volgende gedeelte van Openbaring 20 word die duisendjarige ryk ses keer genoem:

“En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word. “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank. En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word” (Op. 20:1-7).

‘n Toekomstige koninkryk op aarde

Wanneer die Here Jesus na die aarde terugkom, kom Hy as Koning van die konings en sal ‘n regering vir die hele wêreld instel met Jerusalem as hoofstad:

“En die sewende engel het geblaas en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15).

Daniël sê in sy profesie oor die eindtyd dat die Seun van die mens met sy koms soos ‘n rots sal wees wat die aardse koninkryke sal verbrysel en tot stof vermaal, en self in hulle plek sal regeer (Dan. 2:44-45). Sagaria sê: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:9). Dieselfde belofte oor sy koningskap op aarde is voor Jesus se geboorte aan Maria gemaak:

“En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:31-32).

Die troon van Dawid is nie in die hemel nie, maar op aarde. Jesus regeer nie nou in ‘n geestelike sin op die troon van Dawid nie, want dié troon is sedert die Babiloniese ballingskap van Israel al vervalle en in onbruik. Christus sal hierdie troon in Jerusalem eers met sy wederkoms herstel en dan daarvandaan regeer:

“Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17).

Die ouderlinge in die hemel [die verheerlikte kerk] weet dat hulle saam met die Here Jesus na die aarde sal terugkom en hier as konings in sy ryk sal heers. Hulle sê uitdruklik:

“U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10; kyk ook Op. 11: 17; klem bygevoeg).

Dit is dus baie duidelik dat die openbaringsgebeure met ‘n sterk proklamering van Christus se koningskap gepaard gaan:

“Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp... [en] hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:10, 12).

Wanneer Jesus, wat tans as Hoëpriester by die Vader se troon vir ons intree, na die aarde terugkom, sal Satan se mag en invloed op aarde verbreek en Christus se koninkryk ingestel word. Die duiwel sal dan nie meer die owerste en god van hierdie wêreld wees, in wie se mag die huidige verdorwe wêreld lê nie (Joh. 14: 30; 2 Kor. 4:4; Ef. 6: 12; 1 Joh. 5:19).

‘n Verdere bewys daarvan dat die duisendjarige koninkryk nie in die hemel is nie, is die feit dat daar nog inherente vleeslikheid en wanordelikheid onder die nasies sal wees, wat sal vereis dat hulle met ‘n streng hand regeer word. Hoewel die duiwel gebind sal wees en die mense nie tot openlike sondes sal kan verlei nie, sal hulle nog ‘n gevalle natuur hê wat gedissiplineer moet word. In Openbaring 12:5 en 19:15 word gesê dat Christus die nasies met ‘n ystersepter sal regeer. In hierdie toekomstige koninkryk sal sy getroue diensknegte saam met Hom regeer:

“Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf: soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Op. 2:25-27).

Gedurende die Messiasryk sal die Here Jesus se troon in Jerusalem die ontmoetingspunt tussen die hemel en aarde wees, en dus die sentrum van goddelike wysheid, gesag en ‘n regering van geregtigheid. Jesaja sê die volgende hieroor:

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:2-4; kyk ook Jes. 24:23 en Sag. 8:22).

‘n Toestand soos hierdie, waarin daar geen oorloë gevoer, geen militêre opleiding ondergaan of enige wapens vervaardig word nie, het nog nooit op aarde bestaan nie. Dit kan dus slegs op die toekomstige vrederyk betrekking hê. Omdat die duiwel gedurende die duisend jaar van Christus se regering gebind sal wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie, sal gewelddadigheid en oorlogvoering nie voorkom nie. Ander vorms van sonde sal ook verdwyn en die hele wêreld sal slegs die Christelike godsdiens erken en aanhang:

“Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jes. 11:9).

Jerusalem sal spontaan deur almal as hoofstad van die wêreld erken word, en daar sal geen vyandigheid en politieke spanning tussen individue of nasies bestaan nie:

“In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).

Die enigste vorm van wangedrag wat wél gedurende die millennium sal voorkom, sal laksheid wees deurdat sommige nasies sal nalaat om die Here te eer en te dien soos hulle moet. Dit sal nog steeds ‘n geval wees van: “die gees is gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). Hulle sal as gevolg daarvan deur vermaninge en strafmaatreëls aangespreek word:

“En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit al die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie” (Sag. 14:16-17).

Daar sal in hierdie tyd dus ‘n oorblyfsel van die nasies op aarde wees. Hulle sal sterflike mense van vlees en bloed wees, en as gevolg van hulle gevalle natuur nog steeds gered moet word om waarlik aan die Here te behoort. Volgens Sagaria 14:16-17 sal hulle wél die groot verdrukking en die slag van Armagéddon oorleef, en hoewel hulle nie die nommer van die Antichris aanvaar het nie, behoort hulle ook nie aan Christus voordat hulle Hom daadwerklik as Verlosser aangeneem het nie.

Daar is aanduidings in die Bybel dat die relatief klein oorblyfsel van die nasies direk ná die wederkoms van Jesus almal saam met die oorblyfsel van Israel gered sal word. Sagaria sê dat met die wederkoms, die oorblyfsel van Israel rou sal bedryf wanneer hulle met die Messias versoen word (Sag. 12:10-14; 13:1, 9). Mattheus dui aan dat alle nasies in hierdie rou en verootmoediging sal deel:

“…en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:30).

Dit beteken dat die vrederyk met ‘n eerste geslag Christene sal begin. Omdat hierdie mense egter nog almal hulle Adamiese, sonde-geneigde natuur het, sal die opkomende geslagte [soos ook nou] ongered gebore word en dus weergebore moet word om kinders van God te word. Om hulle te evangeliseer, sal die taak van die geredde Israel wees, wat ook nog sterflike maar wedergebore mense sal wees. Hulle sal die evangelie na alle nasies uitdra:

“In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6).

Dit is uit Openbaring 20 duidelik dat daar gaandeweg ál hoe minder lede van die opkomende geslagte gered sal word. Wanneer die duiwel aan die einde van die vrederyk vir ‘n kort tydjie losgelaat word, sal miljoene mense dadelik in sy mag val (Op. 20:7-9).

Die eerste opstanding

Die leer oor die twee opstandings kom ook duidelik in verband met die duisendjarige vrederyk ter sprake. Slegs hulle wat deel het aan die eerste opstanding (Luk. 14:14; 1 Thess. 4:16), waarby ook ingereken moet word die ná-oes van die verdrukking, sal saam met Jesus Christus in sy ryk regeer. Die opstanding van die regverdiges móét dus voor die duisendjarige vrederyk plaasvind. Om hiervoor waardig te wees, is ‘n groot seën en iets om jou voor te beywer :

“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6; kyk ook Fil. 3:11-12).

Die ander dode is die ongeredde menigte van alle eeue, en hulle sal nie herleef totdat die duisend jaar voleindig is nie (Op. 20:5). Hulle sal dan voor die groot wit troon verskyn om tot die ewige dood in die poel van vuur verdoem te word.

Kenmerke van die vrederyk

Die volgende is die belangrikste kenmerke van die toekomstige vrederyk op aarde:

·        God sal in die Persoon van Jesus Christus op aarde regeer. ‘n Teokratiese wêreldregering sal dus gevestig word (Luk. 1:31-33; Op. 19:15; Jes. 11:5-16).

·        Die troon van Christus sal in Jerusalem wees (Sag. 8:22; Jes. 2:2-3; 24:23). Sy regering sal deur geregtigheid gekenmerk word (Jes. 1:26-27; Jer. 23:5-6).

·        Daar sal vrede wees. Nasies sal nie meer leer om oorlog te voer nie (Jes. 2:4; Miga 5:4).

·        Satan sal gebind wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-4).

·        Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here en die hele wêreld evangeliseer (Jes. 12:3-6, 27:6, 40:9). Deur hulle evangelisasie sal hulle die wêreld vol vrugte maak (Jes. 27:6) en die Here sal geëer word (Jes. 28:5).

·        Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Hab. 2:14).

·        Daar sal nie siekte wees nie: “Geen inwoner sal sê: ek is siek nie” (Jes. 33:24).

·        Mense sal hoë ouderdomme bereik. ‘n Man van 100 jaar oud sal as ‘n kind beskou word (Jes. 65:20-23).

·        Die natuur, wat as gevolg van die sondeval aan die nietigheid onderworpe is, sal gedeeltelik herstel word. Die hele skepping wag met reikhalsende verwagting op die openbaarmaking van die kinders van God (Rom. 8:19-22; Jes. 41:18-20).

·        Tye van ekonomiese voorspoed sal aanbreek. Wanneer dit planttyd is, sal die vorige oes nog nie eers klaar ingesamel wees nie (Jes. 55:13; Amos 9:13-14; Joël 3:18).

·        Daar sal ‘n ten volle ontwikkelde, ekonomies voorspoedige gemeenskap wees wat in die behoeftes van die Koning se onderdane sal voorsien (Jes. 65:21-23).

·        Harmonie sal in die diereryk heers. Die leeu sal by die lam lê en gras vreet soos ‘n os, omdat die Here ‘n nuwe verbond met die diere en visse van die see sal sluit (Jes.11:6-9, 65:25; Hos. 2:17).

Israel se posisie in die vrederyk

Uit Israel se oogpunt is dit om die volgende vier redes baie duidelik dat die vrederyk nog nie vir dié volk aangebreek het nie:

Eerstens: Volgens die profete sal die Messiasryk ongekende seëninge vir Israel bring. Die volk het geen een van hierdie seëninge die afgelope bykans 2 000 jaar beleef nie. Tydens hulle internasionale ballingskap was daar geen ander volk wat soveel aanhoudende smarte as die Jode ervaar het nie. Selfs in die 40 jaar voor die verwoesting van Jerusalem was die land Israel ‘n kookpot van onderlinge twiste, haat en opstande teen die Romeinse owerheid.

Tweedens: In die vrederyk sal die Messias benewens sy wêreldwye koningskap ook die Koning van die Jode wees. Die feit is dat die Jode nog nooit vir Jesus as hulle Koning en Messias erken het nie. Hulle het nog nie as volk die geopende oë gehad om vir Hom wat hulle deurboor het, as Messias te erken nie (Sag. 12:10). Indien Jesus reeds die koningskap op die troon van Dawid aanvaar het (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17), dan is Hy as Koning van die Jode ‘n Koning sonder ‘n volk. Om profesieë só te verklaar, kom prakties daarop neer om die Bybel eenkant toe te skuif en jou eie teorieë te verkondig.

Derdens: In die vrederyk sal Jerusalem hoog en verhewe as die hoofstad van die wêreld wees. Die nasies sal hierheen toestroom om in die weë van die Here onderrig te word, en Israel sal deur hulle geëer word. Die afgelope byna 2 000 jaar was Jerusalem egter vertrap deur die nasies.

Vierdens: In die vrederyk sal Israel hulle doel as die volk van God verwesenlik en die hele wêreld evangeliseer. Tot dusver het hulle as volk nog nie die Messias aanvaar nie en kon dus nog nie sy lof onder die nasies verkondig nie.

Israel se posisie in die komende Messiasryk word dikwels in die Ou Testament beskryf en spesifiek met die dag van die Here in verband gebring. Dit sal ‘n tyd van seën, oorvloed, blydskap in die Here en vrede op aarde wees. Israel sal dan sy volle potensiaal as volk van God vervul en ‘n nasie wees waardeur die Here die hele aarde sal seën. Paulus het van Israel gesê:

“As hulle val die rykdom van die wêreld is… hoeveel meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:12).

Deur Israel se val, omdat hulle die Messias verwerp en laat kruisig het, is die versoening van God aan die nie-Joodse wêreld gebied. Wat ‘n geweldige seën is dit nie vir ons nie! Hoeveel te meer sal Israel dan nie in die vrederyk ‘n seën vir die wêreld wees wanneer hulle die verlossingswerk van die Messias onder alle nasies sal verkondig nie! Hulle sal dan hulle roeping as volk van God ten volle vervul.

 

21. Tekens van die Tye

Hoewel daar beslis ‘n verrassingselement in die wegraping is, is daar aan ons verskeie tekens van die eindtyd gegee sodat ons ten minste sal weet wanneer dit naby is:

“En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21: 28).

Die mense in die tyd van Jesus het nie op die tekens van sy eerste koms ag geslaan, en Hom derhalwe nie verwag nie. Hulle is oor hulle gebrek aan profetiese insig verkwalik. Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle ‘n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! En dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! En dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?” (Luk. 12:54-56).

Hoe staan die saak met ons hier vlak voor die tweede koms van Jesus? Net so seker as wat die westewind reënwolke van die Middellandse See af gewaai en die suidewind van die Negev-woestyn af warm, droë toestande veroorsaak het, kan daar ook konkrete afleidings van die tekens van die tye gemaak word. Daar is verskeie tekens wat op die naderende einde van hierdie bedeling dui, waaronder die volgende:

1. Die herstel van Israel

Die Here het beloof dat Hy die kinders van Israel “in die laaste van die dae” uit al die nasies sal gaan haal waarheen hulle verstrooi geraak het (Hos. 3: 5; Eseg. 37:21). ‘n Baie duidelike aspek van die herstelproses is die status van die stad Jerusalem. Volgens Lukas 21:24 sal Jerusalem vertrap word deur die nasies “totdat die tye van die nasies vervul is.” Die fisiese herowering van Jerusalem in 1967 tydens die Sesdaagse Oorlog, en die staatkundige herstel daarvan tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel in Augustus 1980, is duidelike aanduidings dat ons in die laaste geslag leef. Volgens die Bybel gaan daar in die eindtyd ‘n groot stryd om die beheer oor Jerusalem wees (Sag,. 12:2-3; 14:2) omdat die Here Jesus met sy wederkoms na hierdie stad toe terugkeer (Sag. 14:4-5). Sy vyande sal Hom daar inwag, maar Hy sal hulle verdelg (Sag. 14:12-13).

2. ‘n Russies/Arabiese sameswering teen Israel

In Eségiël 38 en 39 word ‘n Russies/Arabiese inval in Israel beskryf. Die Russiese vors word Gog genoem, in die land Magog. Dit is die groot gebied noord van die Kaukasusgebergte en die Swartsee, wat op die moderne Rusland dui. Die Here sê van Gog: “Jy sal optrek teen my volk Israel soos ‘n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees” (Eseg. 38:16). Vyf van Rusland se bondgenote word genoem, nl. Persië (Iran), Kus (Ethiopië), Put (Libië), Gomer (Duitsland) en Togarma (Turkye).

3. Die herstel van Babilon

In Openbaring 18 word na ‘n wêreldstad met die naam Babilon verwys. Dit is dieselfde Babilon wat in antieke tye bestaan het, en in die eindtyd weer tot sy eertydse glorie herstel sal word. Babilon is op die wal van die Eufraatrivier in die huidige Irak geleë. In Sept. 1987 is die eerste deel van die herboude Babilon feestelik ingewy, maar daarna is die herbouing van die stad etlike jare lank a.g.v. die Golfoorlog gestaak. Hierdie stad gaan egter in die toekoms deur die nasies van die wêreld as ‘n simbool van wêreldeenheid herbou word. Dit sal ook ‘n heidense godsdienstige sentrum wees en as sodanig ‘n herhaling van die eerste bouprojek van dié stad (Gen. 11:4). Die belangrikste motivering hiervoor sal rebellie teen God en sy koninkryk wees. Die vernietiging van hierdie stad, soos in Jesaja 13:19-22 en Openbaring 18:1-24 beskryf word, sal aan die einde van die groot verdrukking plaasvind. Huidige verwikkelinge in Irak (én Babilon) is dus ‘n belangrike teken van die eindtyd.

4. Die herstelde Romeinse Ryk

Die Romeinse Ryk moet in die eindtyd as ‘n magsbasis van die Antichris verreis. In die beeld wat Daniël gesien het (Dan. 2:31-45) stel die bene en tien tone die Romeinse Ryk voor. In die latere naggesigte van Daniël stel die leeu met die tien horings op sy kop ook die Romeinse Ryk voor, waaruit die Antichris sal voortkom (Dan. 7:4, 7-8, 19-26). Die simboliek van die leeu met die tien horings vind ons ook in Openbaring 13:1-2 se beskrywing van die Antichris. Dit is dus duidelik dat die Romeinse Ryk moet verreis. Let egter daarop dat dié ryk ‘n Mediterreense  ryk was wat verskeie lande rondom die Middellandse See ingesluit het. Hierdie lande is in die huidige Wes-Europa, Oos-Europa, die Midde-Ooste én Noord-Afrika. Die vereniging van Wes- en Oos-Europa ná die val van die ystergordyn is ‘n belangrike verwikkeling in die herlewing van die Romeinse Ryk. Lande uit die Midde-Ooste moet egter ook 'n deel van hierdie gemeenskap vorm.

5. ‘n Verenigde nuwe wêreldorde

Die Antichris sal die hoof van ‘n nuwe wêreldorde wees waarby alle nasies ingesluit sal wees (Op. 13:7). Alle mense op aarde sal hom navolg, aanbid en ook deel van sy wêreldekonomie vorm (Op. 13:3-4, 8, 16-18). Vir só ‘n absolute verenigingsproses om te kan slaag, móét daar vooraf ‘n ideologie van eenheid op aarde gevestig word. Dit is in die lig hiervan dat die nuwe wêreldorde vir staatkundige en ekonomiese eenheid, en die Nuwe Era Beweging vir godsdienstige eenheid, gesien moet word. Die grondgedagte van die Nuwe Era Beweging is “holisme” of “monisme” – alles is een. Die mensdom moet in terme hiervan polities, sosiaal, ekonomies en godsdienstig verenig word.

6. ‘n Alliansie van wêreldgodsdienste

Volgens Openbaring 17 gaan daar ‘n alliansie van wêreldgodsdienste ontstaan wat almal die Antichris sal erken en ten nouste met hom sal saamwerk. Hierdie alliansie word genoem: “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Op. 17:5). Hoerery word hier in ‘n geestelike sin bedoel, soos in Jakobus 4:4. Al die geestelik afvalliges sal dus by een moederorganisasie betrokke raak. Hierdie teken is reeds besig om in vervulling te gaan, soos in die bevordering van multigodsdienstige ekumene gesien kan word. Groepe soos die Wêreldkonferensie vir Godsdiens en Vrede, die Parlement vir Wêreldgodsdienste en die Verenigde Godsdienste Inisiatief lewer getuienis hiervan.

7. Godsdienstige verval en leuenprediking

In die eindtyd sal mense van die geloof afvallig raak en verleidende geeste en leringe van duiwels aanhang (1 Tim. 4:1). Hulle sal die gesonde, Bybelse leer verlaat en vir hulle ‘n menigte leraars kry wat leuens verkondig (2 Tim. 4:3-4). Baie van hierdie valse leraars sal selfs die Here Jesus se Godheid en maagdelike geboorte verloën en sodoende die waarheid teëstaan (2 Pet. 2:1-2). Deur okkultiese tekens en wonders wat in die naam van Jesus gedoen word, sal baie mense mislei word (Matt. 24:11, 24; 7:22-23). Satanisme sal ook baie toeneem (Op. 9:20; 13:4).

8. Morele verval

Daar sal ook ernstige morele en sedelike verval plaasvind 2 Tim. 3:1-5). Dit is in voorbereiding op die verskyning van die Antichris, wat as die mens van sonde ‘n sonde-kultuur op aarde sal vestig (2 Thess. 2:3). Ongeregtigheid, korrupsie, laster, diefstal, gewelddadigheid, hoerery, prostitusie en homoseksualisme sal dramaties toeneem.

9. Aardbewings en ander natuurrampe

Daar sal ‘n groot toename in aardbewings en ander natuurrampe plaasvind. Dit sal uiteindelik op die grootste aardbewing van alle tye uitloop (Op. 16:18-20; Eseg. 38:18-20). Haelstene van 50 kg. (‘n talent) sal op die aarde val (Op. 16:21).

10. Hongersnode en pessiektes

Ongekende hongersnode en pessiektes sal voorkom (Matt. 24: 7). Kos sal uiteindelik só skaars en duur word dat ‘n persoon met sy volle salaris net genoeg kos sal kan koop – daar sal niks geld vir enigiets anders oorbly nie (Op. 6:6). Pessiektes sluit ongeneeslike siektes én epidemies in wat nie beheer kan word nie. In die groot verdrukking sal daar bose swere op almal uitslaan wat die merk van die dier aanvaar het (Op. 16:2).

11. Oorloë en gerugte van oorloë

Oorloë, opstande en revolusies sal ‘n lewenswyse word soos wat mense in ‘n oorbevolkte wêreld vir grond en ander natuurlike hulpbronne meeding, in etniese konflikte betrokke raak, en ook die wapen vir die verkryging van politieke en godsdienstige regte opneem (Matt. 24:6-7).

12. Kosmiese tekens

Daar sal tekens wees aan die son, maan en sterre (Luk. 21:25). Weens verskynsels soos lugbesoedeling sal die son swart soos ‘n harige sak word en die maan rooi soos bloed (Op. 6:12; Jes. 13:9-11; Joël 2:10, 31). Hemelliggame soos asteroïdes, komete en meteore sal die aarde met verwoestende gevolge tref (Op. 6:13).

13. Geestelike en morele polarisasie

Ongeregtigheid en vuilheid sal baie toeneem. Christene sal hulleself van die toenemende vloedgolf van sonde en godsdienstige dwalinge moet onttrek en in heiligheid toeneem (Op. 22:11-12). Diegene wat nalaat om hulleself af te sonder, sal wêrelds raak en geestelik terugval (Matt. 24:12). Ons moet onsself op die koms van die hemelse Bruidegom voorberei deur te sorg dat ons waardig wandel en met die Heilige Gees vervul is (Luk. 21: 28; 34-36; Matt. 25:1-13). Baie mense jaag net geld en wêreldse plesier na en benadeel in die proses hulle siele. Ons kan nie vir Mammon én God dien nie – ‘n keuse moet gemaak word.

14. Wêreldevangelisasie

Voordat die einde kom, moet die evangelie nog ‘n keer in die hele wêreld verkondig word (Matt. 24: 14). Groot erns moet in hierdie eindpoging aan die dag gelê word, want die Here wil die bruilofsaal in voorbereiding op sy wederkoms vol kry: “Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word” (Luk. 14: 23).

 

Naslaanwerke

Ankerberg, J. & Weldon, J. 1996 : Encyclopedia of New Age Beliefs. Eugene, Oregon: Harvest House Publishers.

Barton Payne, J. 1973 : Encyclopedia of Biblical Prophecy. London: Hodder & Stoughton.

Ice, T. & Demy, T. (red.) 1995 : When the Trumpet Sounds. Eugene, Oregon: Harvest House Publishers.

Malan, J.S. 1991 : Israel in die Eindtyd. Alberton: Basuin Uitgewers.

Malan, J.S. 1999 (3de uitgawe) : Openbaring se Boodskap vir die Eindtyd. Totiusdal: Basuin Publikasies.

Malan, J.S. 1999 : Die Dag van die Here. Pietersburg: Basuin Publikasies.

Malan, J.S. 2001 (2de uitgawe) : Patmos Briewe. Pietersburg: Basuin Publikasies.

Oosthuizen, W.H.M. 1960 : As die Seun van die Mens Kom. Pretoria: NGK Boekhandel.

Pentecost, J.D. 1958 : Things to Come. Findlay, Ohio: Dunham Publishing Co.

Walvoord, J.F. 1971 : Daniel – The Key to Prophetic Revelation. Chicago: Moody Press.

Walvoord, J.F. 1979 : The Rapture Question. Grand Rapids: Zondervan Publishing House.

Walvoord, J.F. & Zuck, R.B. (red.) 1983 : The Bible Knowledge Commentary. Victor Books.

NS. Vir artikels en boeke oor die eskatologie, raadpleeg die webblad www.bibleguide.com

Watchman Nee 88