Print

Openbaring Vir Ons Tyd

Written by Prof Johan Malan.

Hierdie is die jongste boek oor Openbaring deur Johan Malan, en vul in belangrike opsigte by sy ander twee boeke, Die Uur van Duisternis en Die Dag van die Here, aan.

Alle Skrifaanhalings kom slegs uit die 1933 vertaling van die Afrikaanse Bybel soos in 1953 hersien.

Geen kopiereg word op die boek voorbehou nie, op voorwaarde dat erkenning aan die outeur verleen en geen veranderings aan die teks aangebring word nie.

 

Inhoud

1.    Die Groot Betekenis van Bybelse Profesieë

2.    Hoe Moet ons die Profetiese Woord Verstaan?

3.    Die Openbaring van Verborgenhede

4.    Onderskeid Tussen Israel en die Kerk

5.    Openbaring in die Lig van Daniël se 70ste Jaarweek

6.    Die Aanbieding van Openbaring

7.    Die Kerk op Aarde

8.    Die Verheerlikte Kerk in die Hemel

9.    Die Antichris

10.Die Valse Profeet

11.Die Oordele van die Verdrukking

12.Israel in die Verdrukking

13.Die Val van Babilon

14.Die Wederkoms van Christus

15.Die Millennium

16.Wat Kan Ons te Wagte Wees?

Bekendstelling van Boek

Ernstige vermanings en waarskuwings word in Openbaring aan verskillende groepe mense gerig:

Ware Christene word vermaan om teen die toenemende leerstellige en morele verval van die eindtyd te waak en op die pad van die Here te volhard totdat Hy ons kom haal.

  • Vormgodsdienstige lidmate wat van die waarheid afgedwaal het, kry die duidelike boodskap dat hulle as gevolg van hulle dwalings in die groot verdrukking sal beland.
    • Israel word op die verdrukking voorberei omdat hulle die ware Messias verwerp het en daarop afstuur om met die valse messias ‘n verbond te sluit. ‘n Belofte van oorlewing word aan hulle gebied, sodat ‘n oorblyfsel van die volk behoue kan bly om gered te word wanneer die Messias kom.
  • Die goddelose nasies én individue word gewaarsku dat hulle die grootste verdrukking van alle tye te wagte kan wees, en uiteindelik in die poel van vuur sal beland as hulle op die pad van sonde volhard.
    • Jesus Christus beloof in sy Woord dat Hy sal terugkom aarde toe om Hom op sy vyande te wreek, Israel te red, sy vrederyk hier te vestig en alles nuut te maak.

Oor die Outeur

Johan Malan is in Augustus 1978 as professor in Antropologie aan die Universiteit van die Noorde (tans die Universiteit van Limpopo) naby Polokwane in die Limpopo Provinsie van Suid-Afrika aangestel. As die seun van ‘n sendeling, wyle ds. J.S. Malan, het Johan van jongs af deeglike Bybelse onderrig in die huis ontvang – ook in die letterlike, premillennialistiese vertolking van Bybelse profesieë oor die eindtyd. Hy het besef dat die vergeestelikingsteologie groot skade aan die betekenis van profesieë oor die herstel van die volk Israel, die wederkoms van Jesus Christus en die opkoms van ‘n antichristelike nuwe wêreldorde berokken. As gevolg hiervan het baie Christene nie ‘n duidelike toekomsverwagting nie, en is nie toegerus om in ‘n tyd van groot geestelike verval staande te bly nie.

Hierdie toedrag van sake het Johan ná sy bekering en wedergeboorte in 1972 gemotiveer om ‘n intensiewe studie van die Bybelse eskatologie te maak en kennis hieroor te versprei. Hy gebruik net die Bybel as feitelike en leerstellige bron, en verkondig nie ‘n bepaalde kerk se standpunte nie. Sy eerste boek oor Openbaring, Die Uur van Duisternis, is in ses tale uitgegee – Afrikaans, Engels, Portugees, Swahili, Estnies en Russies. Johan het ‘n tyd lank in Israel navorsing gedoen en benewens verskeie artikels in tydskrifte, ook ‘n boek oor Israel geskryf wat in vier tale verskyn het.

Die naam van sy Christelike bediening is Basuin Publikasies wat deur sy vrou, Wilma, geadministreer word. Hulle gee ‘n tweemaandelikse Christelike aktualiteitstydskrif, Die Basuin, uit. Die meeste van sy artikels en boeke, asook ‘n Bybelstudiereeks in drie tale, verskyn op sy webblad, http://www.bibleguidance.co.za Hierdie blad word met die vriendelike samewerking van Gerald en Helene Vos in stand gehou.

Voorwoord

Hierdie boek oor Openbaring is geskryf, gedagtig aan die feit dat daar verskillende en wyd uiteenlopende verklarings vir Bybelse profesieë is. In sommige van hierdie verklarings word die profesieë tot só ‘n mate vergeestelik en van hulle letterlike betekenis gestroop, dat hulle hul aktuele boodskap verloor. Die Woord van God word hierdeur in diskrediet gebring omdat die basiese betekenis daarvan nie eerbiedig word nie. Die gevolg is dat baie mense verward is en nie altyd weet wat om te glo nie – veral nie oor dit wat die toekoms vir ons inhou nie.

Met die oog hierop word daar vyf hoofstukke oor die betekenis en verklaring van Bybelse profesieë aangebied voordat daar met ‘n studie van die boek Openbaring begin word. In hierdie hoofstukke word dit duidelik aangetoon hoedat die Bybel self die waarde en betekenis van profesieë oor die toekoms bepaal en bevestig.

‘n Belangrike vereiste vir die regte verstaan van profesieë is die duidelike onderskeid wat die Bybel tussen Israel en die kerk tref. Hoewel geredde Jode in die Nuwe Testamentiese bedeling ‘n deel van die kerk van Christus uitmaak, het die volk Israel ‘n heel ander toekoms as wat die kerk het. Talle profesieë oor Israel, waaronder die volk se herstel na die land wat die Here aan hulle vaders gegee het, is uniek en nie op die kerk van toepassing nie. Die redding van die hele oorblyfsel van Israel ná die kerkdispensasie, teen die einde van die komende groot verdrukking (Dan. 12:1; Jer. 30:7; Rom. 11: 25-26), vorm deel van hierdie volk se heilsgeskiedenis.

Die inagneming van hierdie feite maak dit vir ons moontlik om met sekerheid te kan bepaal watter profesieë op die kerk, op Israel, op die goddelose mense én op die rebelse nasies betrekking het. Ware kinders van die Here sal nie aan die oordele van God in die komende verdrukking onderwerp word nie. Hulle het dus nie ‘n Antichris-verwagting nie, maar wag op die koms van die hemelse Bruidegom wat hulle na hul woning in die Vaderhuis sal wegvoer (Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-18).

Alle tekens dui daarop dat die kerkbedeling haas verby is, en dat ons beperkte tyd het om die evangelisasie-opdrag uit te voer sodat dié wat nog buite is, kan inkom (Luk. 14:23). Nadat die Here sy dissipels kom haal het, sal die uur van duisternis oor die aarde aanbreek wanneer die Antichris as wêreldleier geopenbaar en God se oordele oor ‘n onbekeerlike mensdom uitgestort sal word. Maak nóú seker dat jy nie in daardie tyd hier sal wees nie.

 

1. Die Groot Betekenis van Bybelse Profesieë

‘n Studie van die boek Openbaring moet gedoen word met die verwagting dat dit ons geestelik sal verryk en ‘n spesiale seën van die Here sal meebring. Daar is ‘n saligspreking vir elkeen wat Bybelse profesieë bestudeer en ter harte neem: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Op. 1:3). As ons denke en toekomsverwagting op die beloftes in die profetiese woord ingestel is, sal dit ons aandag noodwendig op die hooffiguur van toekomstige gebeure vestig, naamlik Jesus Christus. Hy het beloof om weer te kom, sy bruidsgemeente na haar hemelse bestemming weg te voer, sy vyande wat Hom steeds verwerp, te oordeel, die oorblyfsel van Israel te red, in hulle land te vestig en ‘n regering van geregtigheid vir die hele wêreld in te stel.

Daar is ongelukkig mense wat die waarde van Bybelse profesieë onderskat deur dit óf te ignoreer óf simbolies en allegories te verklaar en sodoende ander betekenisse daaraan toe te skryf. Soos wat die tyd egter verbygaan en profesieë oor die einde van die kerkbedeling letterlik vervul word, neem die belangrikheid van profetiese boeke soos Openbaring toe en bevestig die waarheid van die hele Bybel. Paulus sê: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17). Ons kan nie die profetiese woord ignoreer en meen dat ons nog steeds die hele Bybel bestudeer en die volle raad van God vir die mens verstaan nie – veral nie wat toekomstige gebeure betref nie.

Elke Christen is daartoe verbind om eerbied vir Bybelse profesieë te hê en hom- of haarself aan die bestudering daarvan toe te wy: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:19-21). Hieruit blyk vier baie belangrike beginsels wat ons moet eerbiedig:

Eerstens het Bybelse profesieë ‘n vaste boodskap oor die toekoms. Petrus sê die profetiese woord is baie vas en ons móét daarop ag gee. Dit is nie menslike spekulasie nie, maar ‘n betroubare woord wat beslis in vervulling sal gaan omdat die hoogste gesagspersoon in die heelal, God self, hierdie woorde gespreek het. “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Num. 23:19). Sy Woord is die waarheid (Joh. 17:17), daarom is daar by Hom “geen verandering of skaduwee van omkering nie” (Jak. 1:17). Hy het die toekoms in sy hand en nie een van sy beloftes of waarskuwings sal onvervuld verbygaan nie – in Jesus Christus sal hulle almal vervul word (2 Kor. 1:20).Heili

Tweedens is Bybelse profesieë absoluut uniek en in ‘n kategorie van hulle eie. God het dit deur sy Heilige Gees aan mense bekend gemaak en in sy Woord laat opteken. Hierdie inligting moet van alle ander profesieë onderskei word. Buite-Bybelse profesieë dra nie ‘n goddelike stempel van egtheid en waarheid nie omdat hulle óf menslik óf selfs okkulties van oorsprong mag wees. Profesieë van hierdie aard word nie van ‘n studie van die profetiese woord in die Bybel afgelei nie, maar het hulle oorsprong in drome, visioene, waarsêery, fortuinvertellery, vreemde stemme wat met mense praat, en ook van buite-Bybelse profete en sieners soos Nostradamus en ander.  Baie volke het hulle eie profete wat buite die Bybel om vir hulle profeteer oor wat hulle graag wil hoor. Soms word buite-Bybelse profesieë aan die Bybel gekoppel om meer geloofwaardigheid daaraan te verleen – dan raak dit nog meer misleidend. Bybelse profesieë het net een oorsprong: “…deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” Bybelskrywers het onder die direkte inspirasie van die Heilige Gees profesieë uitgespreek en neergeskryf. Hierdie direkte openbarings het in die jaar 95 n.C., ná die skryf van die boek Openbaring wat die laaste Bybelboek is, opgehou. Die volle raad wat God aan ons wou openbaar, is in die Bybel opgeteken, daarom moet ons nét die Bybel vir inligting oor die toekoms raadpleeg.

Derdens is Bybelse profesieë nie ‘n saak van eie uitlegging nie. Geen mens op aarde – al is hy ook hoe ver geleerd – kan self, volgens eie insig, die profesieë van die Bybel uitlê nie. Hierdie profesieë is deur die Heilige Gees gegee, daarom kan net Hý jou in die hele waarheid lei en aan jou verligte oë van die verstand gee om die betekenis van sy woorde te verstaan (Joh. 16:13; Ef. 1:18). Jy móét dus weergebore wees en onder die leiding van die Heilige Gees die Woord bestudeer voordat jy die ware betekenis daarvan sal begryp. Selfs al is jy weergebore, moet jy seker maak dat jou vertolking van die profesieë nie deur die kerkvaders of teoloë van jou denominasie beïnvloed word nie. Hulle kan ook verkeerd wees, en as jy hulle sienings navolg, word jy nie noodwendig deur die Heilige Gees gelei nie. Dit is opvallend dat mense wat nie die werklike betekenis van die profetiese woord verstaan nie, daartoe oorgaan om vreemde uitleggings daarvan aan te bied. Omdat dit nie regtig vir hulle sin maak nie, besluit hulle om nie die profesieë ernstig en letterlik op te neem nie, maar om simboliese of allegoriese verklarings daarvoor te gee. In werklikheid is dit ‘n aanduiding van ongeloof in die profetiese woord, want hulle wil nie glo dat daar aan die einde van hierdie bedeling ernstige verval in die Christendom én in die wêreld plaasvind, dat Israel in tye van groot benoudheid en vyandigheid in hulle eie land herstel word, dat daar ‘n Antichris en ‘n groot verdrukking kom, dat die ware gelowiges die verdrukking sal ontvlug, en dat die Here Jesus ná sy wederkoms ‘n duisendjarige vrederyk op aarde sal vestig nie. Hulle vergeestelik eerder die Bybel om van hierdie konkrete feite af weg te kom en sodoende ruimte vir hulle eie standpunte te skep, wat as teologiese tradisies van een geslag na die ander oorgedra word.

Vierdens, sê Petrus, moet ons die profetiese woord bestudeer totdat die môrester in ons harte opgaan. Die môrester dui volgens Openbaring 22:16 op die Here Jesus, en meer spesifiek die feit dat Hy weer kom. Die môrester verskyn in die laaste nagwaak en verkondig die boodskap dat die nag byna verby is. Vir Christene is hierdie boodskap die toekomsverwagting dat Jesus Christus weer kom en dié keer as die son van geregtigheid die hele wêreld sal verlig en sy vrederyk hier sal vestig. Nou is dit geestelik gesproke nog donker, maar weldra sal die nag van sonde en ongeregtigheid verby wees en ewige geregtigheid aanbreek. Het die môrester van hoop en die blye verwagting van die Here Jesus se koms al in jou hart opgegaan? Indien nie, dan moet jy Bybelse profesieë oor die eindtyd en die wederkoms van Christus intensief bestudeer. Sonder hierdie kennis kan jy nie daarop aanspraak maak dat jy ‘n ingeligte Christen is wat in alle opsigte in die lig wandel en jou tydsomstandighede reg verstaan nie. Met die môrester in jou hart maak jy jouself los van die huidige, goddelose wêreld en bou aan ‘n koninkryk wat nou nog verborge is, maar binnekort op aarde geopenbaar sal word wanneer die Koning kom.

‘n Bybelse perspektief

In die slothoofstuk van die Bybel sê die Here Jesus: “Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar” (Op. 22:7). Iemand wat die profesieë bestudeer, en in hierdie geval spesifiek die boek Openbaring, word met ‘n Bybelse perspektief op die eindtyd geseën. Hierby inbegrepe is ‘n sterk verwagting dat Jesus Christus in mag en majesteit sal terugkom aarde toe, sy vyande by die slag van Armageddon sal verdelg, die Antichris en die valse profeet in die vuurpoel sal werp en die duiwel in ‘n put sal laat bind (Op. 19:11–20:3). Daarna sal Hy sy vrederyk op aarde vestig waarin sy heiliges saam met Hom sal regeer (Luk. 19:15-19; Op. 5:9-10; 20:4).

Christene wat ‘n toekomstige vrederyk verwag, maak hoegenaamd nie die bewering dat die duiwel gebind is en dat ons nou in die duisendjarige vrederyk leef nie. Ons erken eerder die feit dat die huidige wêreld goddeloos is en in die mag van die duiwel lê, omdat die meeste mense die duisternis liewer het as die lig (Joh. 3:19). As Christene het ons ‘n belangrike rol om hier te speel as die lig van ‘n geestelik donker wêreld en die sout van ‘n moreel bedorwe aarde. Terwyl ons dit doen, waak ons daarteen om een te word met hierdie wêreld wat die pad van rebellie teen God, sy Seun, sy Heilige Gees en sy Woord gekies het (Gal. 1:4; 1 Joh. 5:19). Ons burgerskap is in die hemel, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander om gelykvormig aan sy verheerlikte liggaam te word (Fil. 3:20-21). Tans is ons vreemdelinge en bywoners op aarde, daarom lees ons graag profetiese boeke soos Openbaring oor hoe die Here ‘n einde aan hierdie goddelose wêreld en sy leiers sal maak, en daarna sy regering van geregtigheid sal instel (Op. 11:15; 19:15).

‘n Verdere baie belangrike uitspraak oor die profesieë in Openbaring is die volgende: “Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Hierdie teks is ‘n betekenisvolle sleutel tot die verstaan van die profesieë. Die seën of die vloek wat mense tot in alle ewigheid sal ervaar, word op grond van hulle verhouding teenoor die Here Jesus bepaal. Diegene wat in Christus is, kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe (Joh. 5:24; 1 Thess. 1:10; 5:9). Hulle kan hoegenaamd nie in die sewe jaar lange verdrukking op aarde wees nie, omdat dit ‘n tyd van goddelike oordele oor ‘n onbekeerde wêreld sal wees, wat met die bewind van die Antichris sal saamval. Dit is met die oog hierop dat die Here Jesus aan sy dissipels gesê het: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Die ongelowiges en vormgodsdienstiges sal egter nie die oordele ontvlug nie (1 Thess. 5:3).

Die woord ontvlug (Grieks ekfeugo) beteken om buite die verdrukking te wees, en volgens die uitspraak in Lukas 21:36 in die teenwoordigheid van die Seun van die mens gestel te word. Die voorvoegsel ek beteken in Grieks altyd buite, daarom is die Nuwe Vertaling van die Afrikaanse Bybel (1983) heeltemal verkeerd as dit beweer dat ons deur die verdrukking moet gaan. Volgens die 1933 vertaling se weergawe van Lukas 21:36 sal waaksame en biddende Christene die verdrukking “ontvlug.”

Die vertalers van die Nuwe Afrikaanse Bybel het ‘n doelbewuste poging aangewend om as gevolg van hulle eie teologiese siening, waarin daar geen plek vir ‘n wegraping is nie, die begrip ontvlug uit die Bybel uit te vertaal. Hulle stel dit só: “Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en voor die Seun van die mens te verskyn.” In Lukas 21:36 het hulle dus die grondteks verdraai sodat die dissipels van Christus nou deur die verdrukking moet gaan. Dit is ‘n ernstige aantasting van die Woord.

Daar is geen ander gevolgtrekking nie as dat hierdie teks op ‘n doelbewuste en misleidende wyse volgens antichiliastiese eksegetiese beginsels vertaal is. Die vertalers is egter glad nie konsekwent in hulle gebruik van dié verkeerde betekenis nie, want hulle het die woord ekfeugo in Handelinge 16:27 as ontsnap, in Handelinge 19:16 as gevlug, in 1 Thessalonicense 5:3 as ontkom en in Hebreërs 2:3 ook as ontkom vertaal. In Lukas 21:36 word dit egter op ‘n totaal teenstrydige wyse as behoue deurkom vertaal. In die eersgenoemde vier gevalle het die woord telkens die betekenis dat mense uit ‘n bepaalde plek of uit ‘n probleemsituasie wegkom, maar in Lukas 21:36 moet hulle, in stryd met die Bybel self, deur die verdrukking gaan! Die Here bied egter aan ons ontvlugting uit die komende oordele. Die King James vertaling is reg as dit die aksie van “ontvlug” as “escape” vertaal: “...to escape all these things that shall come to pass.” Ons sal nie hier wees nie. Die volk Israel wat steeds die Messias verwerp, die ongeredde nasies, asook al die aanhangers van die valse gelowe en valse kerke, sal wél hier wees.

As ‘n verdere uitvloeisel van hulle negatiewe houding teenoor die begrip “ontvlugting,” beweer verskeie teoloë dat die woord “wegraping” nie in die Bybel voorkom nie. Dit is egter ‘n sinoniem vir die “wegvoering” van die gelowiges waarna Paulus duidelik verwys: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (1 Thess. 4:16-18). Die woord “wegvoer” (harpazo in Grieks) beteken om “vinnig weggeruk” te word van een plek af na ‘n ander toe, en die betekenis daarvan stem presies met dié van “wegraap” ooreen. Dieselfde woord wat in 1 Thessalonicense 4:17 as “weggevoer” vertaal word, word in Handelinge 8:39 as “skielik weggevoer” en in 2 Korinthiërs 12:2 en 4, asook in Openbaring 12:5, as “weggeruk” vertaal. Dit het dus ‘n baie letterlike en voor die hand liggende betekenis wat net so duidelik deur die woord “wegraping” weerspieël word.

Daar was egter beter tye in Suid-Afrika, toe baie van die gereformeerde teoloë, predikante en lidmate in die letterlike vervulling van Bybelse profesieë geglo het. 'n Geesgenoot en produk van hierdie teoloë, dr. D.R. Snyman, wat ‘n NG predikant in Stellenbosch was, was 'n baie bekende chiliastiese skrywer wat verskeie artikels in die tydskrif Kyk, Hy kom! gepubliseer het. Op aandrang van die publiek is hierdie artikels later in 'n boek saamgevat en deur CUM uitgegee onder die titel: Die Komende Christus en die Komende Krisis. Hierin word die tekens van die tye, die herstel van Israel, die wegraping, die verskyning van die Antichris en die duisendjarige vrederyk ná die wederkoms van Christus beskryf. In die voorwoord van sy boek skryf dr. Snyman: “Ons dink met dankbaarheid terug aan die ondersoek van die profesieë deur manne soos wyle prof. N.J. Hofmeyr, ds. G.W.A. van der Lingen, ds. S.J. du Toit, prof. C.F.J. Muller en prof. J.I. Marais. Laasgenoemde het hom in sy latere jare in die besonder op die bestudering van die profesieë toegelê.” Hierdie jare, kort ná die stigting van die Kweekskool op Stellenbosch, is egter lankal verby. Sedertdien het die vergeestelikingsteologie vanaf die Vrye Universiteit in Holland hierheen oorgewaai, omdat baie teoloë vir nagraadse studies daarheen gegaan het. Mettertyd het die lig van die profetiese woord in gereformeerde kringe as gevolg van die nuwe siening uitgedoof geraak.

Toorn oor die goddeloses

Wanneer die gesag van die Bybel oor ‘n bepaalde saak nie meer erken word nie, skep die mens vir homself ‘n visie en Skrifverklaring wat by sy beperkte humanistiese denke pas. Op hierdie manier ontstaan daar leringe van mense, maar die Here het gesê: “Tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:9). Teoloë kan verkeerdelik tot die gevolgtrekking kom dat ‘n liefdevolle God niemand sal oordeel nie, dat ons nou in die duisendjarige vrederyk leef en dat die wêreld na die einde toe ál hoe beter sal word. Die Bybel sê egter dat die wêreld op die donkerste uur in sy ganse geskiedenis afstuur. Jesus Christus het van dié tyd gesê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22).

Die toorn van die Lam sal in die verdrukking oor die geestelik verharde wêreld uitgestort word omdat hulle hulself nie wou bekeer nie. Wanneer die kragte van die hemel geskud word en mense weens die groot aardbewings en rampe na die berge toe vlug, sal hulle na die berge en rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17). Hierdie mense sal as gevolg van hulle verwerping of minagting van Christus nie die oordele vryspring nie.

Soos in die tyd van Noag en Lot sal Christus met die wegraping die gelowiges uit die komende oordele van die dag van die Here uitred, en daarna die sondaars oordeel (Luk. 17:26-30). Paulus sê: “Wanneer húlle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle... Maar júlle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie” (1 Thess. 5:3-4). Daar moet dus ‘n duidelike onderskeid tussen die toekoms van gereddes en ongereddes getref word – dit is die “hulle” wat deur die oordele van die dag van die Here oorval sal word, en die “julle” wat as ware gelowiges nie in die oordele sal kom nie.

Dit is nie die wil van die Here om die goddeloses te verdelg nie, daarom bied Hy sy verlossing aan alle mense op aarde aan. Die Here Jesus sê Hy het sy apostels en dissipels na die heidene gestuur “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:18).

Die dag van die Here

Die getuienis van Jesus ís die gees van die profesie! (Op. 19:10). As jy sy liefde en reddende genade deur die geloof deelagtig geword het, word jy ‘n mede-erfgenaam van sy hemelse koninkryk, en sal jy ook saam met Hom regeer. As jy egter sy genade-aanbod versmaai, of, soos die Fariseërs, in ‘n dooie vormgodsdiens verval, sal jy deur jou eie toedoen die voorwerp van sy toorn wees. Hy het self gesê dat daar in die eindtyd ‘n groot verdrukking sal wees soos daar nog nooit was nie (Matt. 24:21). Nie net die verdrukking nie, maar ook die eindoordeel en die poel van vuur, is die oordele van God oor die sondaars wat Hom verwerp: “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:31).

Uit ‘n studie van Bybelse profesieë oor die tekens van die tye weet ons dat die tyd vir die ontvlugting van die gelowiges voor die komende oordele van die verdrukking baie naby is. Daarna sal die Antichris geopenbaar en die oordele van die dag van die Here se toorngloed oor die sondaars uitgestort word. Jesaja sê die volgende oor hierdie verskriklike lot van die sondaars: “Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek… Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners… Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor… Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud” (Jes. 24:3-6,19; vgl. Jes. 13:9-13).

As jy die Here Jesus nie ken nie, wag die ergste denkbare oordele op jou. Waarom maak jy nie liewer jou saak met Hom reg nie, en ontvlug sodoende die toorn van die Here? “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here; al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes. 1:18).

Wanneer die Here Jesus met sy wederkoms terugkom, kom Hy nie net om die sondaars te straf en te oordeel nie, maar ook om sy dissipels te beloon vir hulle arbeid in die Here. In Openbaring 11:18 staan daar: “U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges, en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf.” Al hierdie dinge staan in verband met die dag van die Here. Aan die begin van die dag van die Here sal die eerste opstanding plaasvind en die heiliges beloon word, dan sal die oordele van die verdrukking uitgestort word; hierna volg die vrederyk, en aan die einde van hierdie dag van ‘n duisend jaar sal die tweede opstanding plaasvind en die eindoordeel aanbreek.

In die laaste hoofstuk van Openbaring sê die Here Jesus: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste” (Op. 22:12-13). Ons verdien niks nie, want ons het niks wat ons nie van die Here af ontvang het nie, daarom word hierdie loon genadeloon genoem. In die lig van die groot betekenis van Bybelse profesieë sê Paulus: “Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:20). Moet dit nie verswyg, verdraai of ontken nie, want dan ontneem jy jouself én ander mense wat deur jou beïnvloed word, die lig van die profetiese woord op die lewenspad. Sonder hierdie lig het die gelowige nie ‘n duidelike toekomsverwagting nie en kan ook nie die tekens van die tye reg vertolk nie.

Dwalings van die vergeestelikingsteologie

Dit is nodig om die belangrike implikasies daarvan aan te toon indien mense nie Bybelse profesieë ernstig en letterlik opneem nie, maar deur vergeesteliking totaal ander betekenisse daaraan verleen. Wat Openbaring betref, skep vergeestelikingsteoloë groot verwarring deurdat hulle die volgende stellings maak wat in stryd met hierdie boek se basiese boodskap is:

  • Hulle ontken ‘n voorverdrukking-wegraping, asook die verheerliking van die kerk in die hemel wat in Openbaring 4 en 5 beskryf word, en beweer dat die kerk deur die tyd van verdrukking op aarde moet gaan.
  • Hulle beweer dat die ruiter op die wit perd, wat in Openbaring 6 beskryf word terwyl Christus in die hemel op die troon is, nie die valse christus (die Antichris) is nie, maar Christus self.
  • Hulle beweer dat die 144 000 geredde Jode wat in Openbaring 7:1-8 beskryf word, nie eindtydse Messiaanse Jode uit die twaalf stamme van Israel is nie, maar die miljoene Christene van die kerkbedeling uit alle nasies.
  • Hulle beweer dat al die rampe en oorloë wat in Openbaring beskryf is, reeds in historiese tye plaasgevind het, en dat Openbaring dus nie profesieë oor die eindtyd bevat nie.
  • Hulle beweer dat profesieë oor die Antichris in Openbaring 13 en 17 óf nie letterlik bedoel is nie, óf in ‘n historiese persoon soos Nero in die eerste eeu vervul is.
  • Hulle beweer dat die nommer van die Antichris in Openbaring 13 ook simbolies verklaar moet word omdat dit volgens hulle niks met ‘n letterlike nommer te doen het waardeur die Antichris koop- en verkoopstransaksies sal beheer nie.
  • Hulle beweer dat die slag van Armageddon op ‘n geestelike stryd dui, en beskou nie die stygende konfliksituasie in die Midde-Ooste as die vervulling van Bybelse profesieë nie.
  • Hulle beweer dat die duisendjarige vrederyk van Openbaring 20 simbolies verklaar en op die kerkbedeling toegepas moet word, wat reeds byna 2000 jaar lank voortduur. Dit is ook die belangrikste rede waarom hulle verkeerdelik beweer dat die duiwel nou in ‘n put gebind is.

Ernstige wanopvattings en onrealistiese verwagtings word deur die bewering geskep dat die duiwel nou gebind is en dat ons tans in die koninkryksbedeling leef. Dié idee vorm die grondslag van die koninkryksteologie, in terme waarvan baie mense meen dat ons nou soos konings in rykdom en siektevrye toestande behoort te leef, na willekeur tekens en wonders moet doen, en die gesag oor die wêreld moet oorneem wat in Satan se hande geval het. Hierdie voorspoedsteologie word deur positiewe denke en die verwagting van groot herlewings en deurbrake vir die vestiging van Christelike regerings oral in die wêreld gedryf.

Koninkryksteoloë beskou dit as ‘n teken van swak geloof as mense van groot geestelike afvalligheid en moeilike tye in die laaste dae praat, en as Christene hulleself as vreemdelinge en bywoners sien in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê. Hulle vermy ook gesprekke en preke oor die Antichris en die groot verdrukking – nie net omdat dit vir hulle negatief is nie, maar veral omdat hulle koninkryksteologie op oorwinning ingestel is en nie na ‘n situasie kan lei waarin die Antichris en die valse profeet oor die wêreld regeer nie. Hulle verwerp ook die idee dat daar ‘n wêreldoorlog kom wat deur die Bybel as die slag van Armageddon beskryf word, omdat hulle ‘n visie van ‘n verenigde, harmonieuse wêreld het waarin almal in vrede saamleef. Dit wat die Here Jesus vir die vrederyk ná sy wederkoms beloof het, eis hulle vir hierdie bedeling op en beloof dit ook aan hulle volgelinge.

Indien ons egter profetiese boeke soos Openbaring lees en besef dat die boodskap daarvan hoofsaaklik op die eindtyd net vóór en net ná die wederkoms van Christus betrekking het, dan verkry ons ‘n heel ander beeld van ons tydsomstandighede en van toekomstige gebeure. Ons besef dat daar ‘n groot verdrukking aan die kom is (Matt. 24:21-22; Op. 6 tot 19), en in die lig hiervan word die belofte van ontvlugting ‘n salige hoop waaraan ons in hierdie troebel tye kan vashou (Titus 2:13). Dan het ons ‘n realistiese, Bybelse verwagting en jaag nie mensgemaakte drome oor die toekoms na nie. Dit is alleen wanneer ons verwagting suiwer in die Woord van God gefundeer is, dat ons nie in die middernaguur van die kerkbedeling aan die slaap sal raak nie – onbewus daarvan dat die Bruidegom enige oomblik kan kom, en ook onbewus daarvan dat ons nie genoeg van die olie van die Heilige Gees in ons lewe het nie (Matt. 25:5-8; Ef. 5:18).

Eers moet ons baie seker maak dat ons die regte beginsels van Bybelverklaring gebruik sodat die Woord in sy suiwer en onvervalste vorm tot ons harte kan spreek. Die leiding van die Heilige Gees in Bybelstudie is onontbeerlik, anders doen mense net kopkennis van die Bybel op waarby hulle geestelik niks sal baat nie. Sulke mense glo nie regtig wat hulle in die Bybel lees nie en verkies om dit te vergeestelik en anders te vertolk. Dikwels kom hierdie skewe vertolkings in die vorm van foutiewe kerkleerstellings na mense toe, wat as die teologiese oorlewerings van hulle denominasie aanvaar word sonder om dit aan ‘n duidelike Skriftoets te onderwerp. Dan verhef hulle kerklike dogma bo die Skrif en laat hulle deur die gebooie van mense lei. Oor sienings en teologiese oorlewerings van hierdie aard sê Jesus Christus: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou... So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het” (Mark. 7:9,13).

Dit is tot oneer van God en sy Woord, en ook tot persoonlike skande vir die prediker, as mense onder wanindrukke gebring word omdat die Bybel nie reg verklaar en in sy volle betekenis aan hulle voorgehou word nie. Dit verg groot erns en geestelike toewyding van elkeen wat die Here se Woord verklaar, om nie op dié terrein ernstige foute te begaan nie. Paulus sê aan alle evangeliste: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim. 2:15). Moenie deur jou onnadenkendheid, gebrek aan kennis, teologiese bevooroordeeldheid, of onsensitiwiteit vir die leiding van die Heilige Gees, foute maak wat tot skewe sienings en onskriftuurlike verwagtings kan lei nie, want daardeur kan die geloof van sommige mense verswak of selfs “omgekeer” word (2 Tim. 2:18; vgl. Gal. 1:6-8; 2 Kor. 11:3-4; 2 Tim. 4:3-4; 2 Pet. 2:1-2). ‘n Ernstige waarskuwing word in die laaste hoofstuk van die Bybel aan mense gerig wat hulleself hieraan skuldig maak (Op. 22:18-19).

In die lig van die botsende verklarings wat dikwels oor Openbaring aangebied word, sal ons in die volgende hoofstuk die verskillende verklaringsbeginsels vir Bybelse profesieë in oënskou neem. Johannes het voor die skryf van die boek Openbaring reeds gesê dat die waarheid van God se Woord ons van vervalsings en skewe vertolkings daarvan sal vrywaar: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Die vrymakende krag van die lewende God en sy Woord is tot elkeen van ons se beskikking, sodat ons kan toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus (2 Pet. 3:18).

 

2. Hoe Moet Ons die Profetiese Woord Verstaan?

Die verklaring van Bybelse profesieë is ‘n onderwerp van groot omstredenheid, en Christene word na aanleiding hiervan in verskillende leerstellige skole geplaas. Mense wat die profetiese woord op ‘n letterlike, dispensasionele wyse verklaar, word chiliaste genoem. Dit is van die Griekse woord chilios afgelei wat duisend beteken, en verwys na diegene wat in ‘n letterlike, duisendjarige vrederyk op aarde glo wat ná die wederkoms van Jesus Christus sal aanbreek. ‘n Sinoniem vir die begrip chiliasme is millennialisme wat van die Latynse woord vir duisend, naamlik mille, afgelei is. ‘n Persoon wat nie in ‘n letterlike duisendjarige ryk ná die wederkoms glo nie, word ‘n antichilias of ‘n amillennialis genoem. Sulke mense is daarop ingestel om deur middel van vergeesteliking ander betekenisse aan verskeie Bybelse begrippe te verleen.

As gevolg van hierdie omstredenheid word daar verskillende eksegetiese (verklarende) beginsels vir Bybelse profesieë gebruik. Sommige daarvan wyk só ver van die grondbetekenis van die teks af dat dit die goddelike inspirasie van die Bybel heeltemal ignoreer. Die volgende is die vier algemeenste teologiese benaderings tot die verklaring van Bybelse profesieë:

1. Historiese premillennialisme

Tot ongeveer die einde van die vierde eeu ná Christus was historiese premillennialisme die mees algemene beskouing oor eindtydse gebeure. In terme hiervan is verwag dat daar in die eindtyd ‘n Antichris sal opstaan en dat die kerk deur die tyd van verdrukking sal moet gaan. Aan die einde van die verdrukking sal die ontslape gelowiges opstaan en saam met die lewende gelowiges na die hemel weggevoer word. Hulle sal dan dadelik, tydens Christus se wederkoms, saam met Hom terugkeer aarde toe sodat Hy die groot verdrukking kan beëindig, die Antichris en sy hordes verdelg, die oorblyfsel van Israel red en sy duisendjarige vrederyk met Jerusalem as hoofstad op aarde vestig. Almal behalwe een van die vroeë kerkvaders wat oor die profesieë geskryf het, het die siening van ‘n letterlike toekomstige vrederyk ná die wederkoms van Christus op aarde gehuldig. Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) het gesê dat om anders te glo, ‘n dwaalleer is!

Die vroeë kerk het dus sterk chiliastiese oortuigings met betrekking tot die verskyning van die Antichris, die sewe jaar lange verdrukking, die wederkoms van Christus en die duisendjarige vrederyk gehad. Al wat daar nie eenstemmigheid oor was nie, was die belofte oor die wegraping voor die verdrukking. Die geweldige vervolging van die kerk in die eerste eeue het die oortuiging laat posvat dat die kerk ook vir die eindtydse verdrukking onder die Antichris bestem is. Daar wás egter ook predikers wat ‘n wegraping voor die verskyning van die Antichris en die begin van die verdrukking verkondig het. Efraim die Siriër, ‘n vroom kerkvader van die vierde eeu, het in 373 ná Christus gesê: “Al die heiliges sal voor die verdrukking versamel en na die Here toe geneem word sodat hulle nie die wanorde sal beleef wat as gevolg van sonde op aarde sal heers nie.” In ‘n ander geskrif het hy die belangrike opmerking gemaak dat Daniël se 70ste jaarweek in die laaste sewe jaar van hierdie bedeling vervul sal word, en dat dit deur die slag van Armageddon en die sigbare wederkoms van Christus afgesluit sal word (vir meer inligting lees Grant Jeffrey se artikel A pretrib rapture statement in the early medieval church, in die boek When the Trumpet Sounds onder redaksie van Thomas Ice en Timothy Demy; in 1995 deur Harvest House Publishers uitgegee). Kerkleiers soos Efraim het nie die meer algemene siening van hulle tyd gedeel dat die kerk deur die tyd van verdrukking sou gaan nie.

2. Amillennialisme (antichiliasme)

Hierdie denkrigting vloei voort uit die aanname dat Bybelse stellings nie letterlik opgeneem moet word nie, maar allegories of geestelik. Dié interpretasie het sy oorsprong in die derde en vierde eeue in die Alexandrynse teologiese skool gehad.

Origenes (geb. 185 n.C.) is die vader van die allegoriese interpretasie en het verskeie boeke oor die verstaan van die Bybel geskryf. Hy was egter sterk onder die invloed van die Griekse filosofie van Plato en wou filosofies meeleef maar tóg ook Christen bly. Die antichiliasme was ‘n direkte voortvloeisel uit Origenes se allegoriese denke. Hy het die Bybel as ‘n boek vol van simbole en allegoriese konstruksies gesien en dit derhalwe nie letterlik vertolk nie. Die werklike bestaan was vir hom in die filosofies-geestelike gnosis (godsdienstige waarheidskennis) geleë waarheen elkeen moet vorder. Daar was vir hom geen sprake van ‘n letterlike koningskap van Christus op aarde nie, en dus ook nie van ‘n persoonlike Antichris wat voor die wederkoms sewe jaar lank oor die wêreld sal regeer nie. Die allegoriese vertolking van die Bybel het ‘n hoogs bedenklike oorsprong omdat die Bybel nie deur die Bybel self verklaar word nie, maar in terme van die heidense Griekse filosofie as ‘n abstrakte geskrif met verborge betekenisse gesien word.

Die opkoms van antichiliasme hang verder ook met die optrede van keiser Konstantyn saam wat Christen-vervolging vroeg in die vierde eeu in die Romeinse ryk afgeskaf en die kerk tot ‘n staatskerk verhef het. Die vrede, beskerming en finansiële ondersteuning wat die Romeine gebied het, het die kerk se uitsig op die wederkoms van Christus en die vestiging van sy vrederyk aansienlik laat afneem en in ‘n eietydse koninkryksvisie laat oorgaan. Dit het die idee laat posvat dat die duiwel nóú gebind is en dat die kerkbedeling inderdaad die beloofde vrederyk op aarde is.

Die persoon wat waarskynlik die meeste daartoe bygedra het om chiliasme te bestry, was die kerkvader Augustinus. Sy optrede was teen die einde van die vierde eeu n.C. Hy het geglo dat ten spyte van die ineenstorting van aardse ryke soos die eens magtige Romeinse ryk, die koninkryk van God (die kerk) nie alleen staande sal bly nie, maar sal triomfeer en sy invloed onder alle nasies sal uitbrei. Dit het Augustinus tot die gevolgtrekking laat kom dat die kerkbedeling tussen die eerste en tweede koms van Christus die koninkryksbedeling, of vrederyk, is waartydens die kerk as ‘n staatskerk op aarde moet regeer. Hy het tipiese koninkryksmagte aan die kerk toegeskryf, asook sakramente met saligmakende krag, en sodoende die teologiese grondslag vir die Rooms-Katolieke Kerk gelê. Protestantse hervormers soos Luther en Calvyn is egter ook sterk deur sy antichiliastiese koninkryksteologie beïnvloed, en dié invloede bestaan vandag nog voort. Augustinus het die twyfelagtige eer dat hy deur sowel die Rooms-Katolieke as baie van die Protestantse kerke as een van die belangrikste kerkvaders erken en nagevolg word. Veral Calvyn was ‘n groot aanhanger van hom.

Teoloë wat Augustinus se siening deel dat die kerkbedeling die beloofde vrederyk is, glo nie in ‘n letterlike millennium ná die wederkoms van Christus nie, en is dus amillennialiste of antichiliaste. Hulle is sterk daarop ingestel om Bybelse begrippe te vergeestelik en dan ander betekenisse daarin te lees (die vervangingsteologie). Na aanleiding hiervan kan Israel of Jerusalem vir hulle die kerk word, die 144 000 geredde Jode van Openbaring 7 kan as die gelowiges van alle tye onder alle nasies beskou word, die sewe jaar lange verdrukking onder die Antichris kan as die vervolging van Christene in die hele kerkbedeling verklaar word, en die slag van Armageddon in die Midde-Ooste kan as ‘n geestelike stryd in die lug beskou word.

3. Postmillennialisme

Sedert die middel van die 16de eeu het daar ‘n nuwe siening oor die vervulling van Bybelse profesieë posgevat, nl. postmillennialisme. In terme hiervan sal die wêreld gaandeweg as gevolg van evangelisasie ‘n beter plek word om in te bly, en sal die millennium van die kerkbedeling uiteindelik aanbreek. Aan die einde van die goue eeu van ‘n Christelike wêreld sal Jesus Christus vir die finale oordeel terugkom. Volgens postmillennialiste sal daar nie ‘n verdere bedeling van die koninkryk van God op aarde wees, met Jerusalem as hoofstad nie, omdat Christus nou deur sy kerk die aarde regeer.

Die kerkhervorming, asook die opkoms van Europese koloniale moondhede (veral die vinnige uitbreiding van die Britse ryk) het die idee by sommiges laat ontstaan dat sendelinge die evangelie oor die hele wêreld sou uitdra, en dat dit uiteindelik tot ‘n Christelike wêreld sou lei waarin reg en geregtigheid geskied en almal in vrede en voorspoed saamleef. Christelike hervorming en rekonstruksionisme, m.a.w. ‘n transformasie na vrederykstoestande, moet dus voortdurend plaasvind totdat sonde, misdaad, oorloë en armoede heeltemal verdwyn. In terme van hierdie visie word nie geglo dat die wêreld geestelik en moreel ál hoe donkerder word, met relatief min mense wat na die smal weg oorkom, en uiteindelik op die groot verdrukking onder die bewind van die Antichris afstuur nie. Die wêreld moet volgens hulle beter word sodat die millennium voor die wederkoms van Christus kan aanbreek.

Verskeie postmillennialistiese groepe huldig nog steeds hierdie visie. Sommige van dié beweging se leiers tree tot die politiek toe in die hoop dat die Here Christene in sleutelposisies sal plaas om die wêreld vir die koninkryk van God oor te neem. Ander bewegings en kerkgroepe wend hulle tot ‘n bonatuurlike magspel van tekens en wonders om sodoende die wêreld aan hulle voete te kry en ‘n groot herlewing aan die gang te sit. Daar word ook deur sommiges probeer om deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering die vestings van Satan te verbreek en hom dan van die planeet aarde af te verdryf sodat hy die nasies nie meer kan verlei nie. Die beweging is ook ekumenies ingestel, maar hulle definisie van eenheid is só breed dat selfs Rooms-Katolieke daarin geakkommodeer word.

Al hierdie koninkryksgroepe kyk nie na ‘n toekomstige koninkryk wat eers met die wederkoms van Christus geopenbaar sal word nie, maar na een wat nóú deur die kragtige bemiddeling van die kerk van Christus op aarde geskep moet word. ‘n Verwagting van hierdie aard is duidelik uit voeling met die boodskap van Bybelse profesieë, wat daarop dui dat daar eers ‘n tyd van groot afvalligheid binne-in kerke sal wees, asook groot geestelike duisternis in die verdorwe wêreld daarbuite, voordat Christus sy getroue dissipels sal kom haal en die hele misleide wêreld in die mag van die Antichris sal val. Eers ná die Antichris se sewe jaar lange bewind sal Christus saam met sy heiliges kom en sy koninkryk in heerlikheid op aarde openbaar.

4. Moderne, dispensasionele premillennialisme

J.N. Darby (geb. 1800 in Londen) was ‘n uitstaande teoloog wat die grondslag gelê het vir die vestiging van dispensasionalisme in die kerk. In die boek When the Trumpet Sounds (bl. 127-8) sê prof. Floyd Elmore van Ohio, VSA, dat John Darby in die afgelope 150 jaar die grootste invloed op die studie van Bybelse profesieë gehad het. Hy was ‘n voortreflike dienskneg van God wat gebruik is om die regte vertolking van Bybelse profesieë te bevorder. Prof. Elmore sê: “Darby is the acknowledged father of systematised dispensationalism and a key modern developer of the pretribulational rapture.”

Verskeie skrywers ná John Darby het belangrike bydraes oor die premillennialisme gemaak, bv. Joseph Seis (The Apocalypse), Clarence Larkin (Dispensational Truth), C.I. Scofield (The New Scofield Reference Bible), Dwight Pentecost (Things to Come), J. Barton Payne (The Imminent Appearing of Christ), Charles Ryrie (The Basis of the Premillennial Faith en Dispensationalism Today), John Walvoord (The Rapture Question, The Revelation of Jesus Christ en The Blessed Hope and the Tribulation) en Robert L. Thomas (Exegetical Commentary on Revelation). Gedurende die laaste twee dekades het talle nuwe boeke oor dié onderwerp verskyn, asook chiliastiese Bybelkommentare (bv. proff. J.F. Walvoord & R.B. Zuck: The Bible Knowledge Commentary).

In dispensasionele teologie word die Bybel letterlik verklaar vanuit die perspektief van God se handelinge met die mens in opeenvolgende bedelings. Die kerkdispensasie word deur die wegraping afgesluit sodat die volgende bedeling – die verdrukking van sewe jaar tydens die Antichris se regering – kan aanbreek. Omdat die verdrukking ook met goddelike oordele gepaard gaan, sal die ware kerk van Christus voor die tyd weggeneem word omdat hulle nie vir God se toorn oor die sondaars bestem is nie. ‘n Voorverdrukking-wegraping is dus ‘n noodsaaklike deel van moderne dispensasionele premillennialisme.

Die begrip “premillennialisme” bevat die duidelike betekenis dat Jesus Christus se wederkoms voor die millennium sal plaasvind, en trouens ‘n voorvereiste vir die aanbreek en openbaring van sy duisendjarige vrederyk (die millennium) is. Vir die eerlike Bybelstudent is dit in elk geval duidelik dat ons nie nou in die duisendjarige vrederyk leef waarin die duiwel gebind is nie. Die duiwel loop tans rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). Die Here Jesus noem hom “die owerste van hierdie wêreld” (Joh. 14:30). As gevolg van sy sterk invloed oor die oorgrote meerderheid mense lê “die hele wêreld in die mag van die Bose” (1 Joh. 5:19). Ons bevind onsself dus in “die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4) waaruit die Here ons wil red.

Premillennialisme is tot die letterlike grondbetekenis van die Skrif verbind, behalwe waar dit uit die konteks baie duidelik is dat simboliese taal gebruik word. Voorbeelde van sulke simbole is die rooi draak of slang wat in die Bybel self as die duiwel geïdentifiseer word, die moeder van die hoere wat na ‘n ekumeniese organisasie van valse gelowe verwys, die dier met die sewe koppe wat op die Antichris dui, en die Lam wat na Christus verwys. Simbole het dus meesal nie abstrakte verklarings nie, maar ‘n letterlike teëbeeld. Wanneer die Bybel egter bekende eiename of beskrywende name soos Israel, Jerusalem, Babilon, die tempel, die Antichris en die valse profeet gebruik, of na letterlik verstaanbare begrippe soos die groot verdrukking, die slag van Armageddon, die wederkoms van Christus en die binding van Satan in ‘n put vir eenduisend jaar verwys, is daar geen gronde hoegenaamd om hierdie begrippe simbolies of allegories te verklaar nie – ook nie die tydperke waarmee sommige van hulle verbind word nie. Waarom moet die 1260 dae van Openbaring 11:3 en 12:6, die 42 maande van Openbaring 11:2 en 13:5 en die duisend jaar van Openbaring 20 simbolies verklaar word, terwyl die 430 jaar van Israel se verblyf in Egipte (Ex. 12:40), die 40 jaar van hulle trek deur die woestyn (Num. 32:13) en die 70 jaar van die Babiloniese ballingskap (Jer. 25:11) letterlike tydperke was? Dieselfde geld vir getalle: waarom moet die baie logiese stelling dat 144 000 persone, 12 000 uit elk van die 12 stamme van Israel, wat vroeg in die verdrukking gered en verseël sal word (Op. 7:3-4), simbolies verklaar word om na ander groepe te verwys, bv. alle Christene van alle tye? Of waarom moet die 200 myl (1600 stadia wat elk 220 treë of 200 meter lank is) van die slagveld in Israel waar God se vyande ná die slag van Armageddon dood sal lê, in die Nuwe Afrikaanse Bybel as 1600 kilometer aangedui word? (Op. 14:20). Dit gebeur omdat daar Bybelvertalers en -verklaarders is wat nie agting vir die letterlike betekenis van sekere stellings in die Woord van God het nie, en dit na willekeur verander.

Beoordeling van die vier denkrigtings

Die vier denkrigtings wat hierbo beskryf is, kan kortliks soos volg geëvalueer word:

Historiese premillennialisme het wel ‘n duidelike begrip gehad van ‘n toekomstige vrederyk met ‘n herstelde Israel en Jerusalem as wêreldhoofstad, maar net beperkte insig in die belofte van die wegraping van gelowiges as ‘n ontvlugting uit die rampgebied van goddelike oordele. Waarskynlik as gevolg van die gruwelike vervolging van die vroeë kerk, het verskeie kerkvaders gemeen dat die kerk ook deur die tyd van verdrukking onder die Antichris sal moet gaan. Hulle het egter in gebreke gebly om te onderskei tussen God se oordele oor die goddeloses, en die vervolging van Christene ter wille van hulle geloof deur 'n wêreld wat in die mag van die Bose lê. In laasgenoemde geval is dit nie God wat mense oordeel of straf nie. In die verdrukking, egter, sal God, soos in die tyd van Noag en Lot, die ongelowiges straf en dus seker maak dat die gelowiges eers na ‘n plek van veiligheid weggeneem word voordat Hy sy oordele oor die goddeloses uitstort. Kerkvaders soos Efraim, die Siriër, het dié feit ingesien en ‘n duidelike standpunt oor die wegname van die gemeente voor die uitstorting van God se toorn in die sewe jaar van die verdrukking gehuldig.

Daar is tans ook mense wat sekere vertolkings van die historiese premillennialisme aanhang deur te beweer dat die wegraping eers in die middel van die verdrukking sal plaasvind, of aan die einde daarvan nét voor die slag van Armageddon, of dat daar glad nie ‘n wegraping sal wees nie, maar wél ‘n vrederyk ná die wederkoms. Die onafwendbare gevolg van hulle toekomsverwagting is dat Christene se aandag op die opkoms van die Antichris gevestig word – nie met die verwagting dat die wegraping voor sy bewindsaanvaarding as wêreldleier sal plaasvind nie, maar met die oog op beplanning om in die eerste deel van die verdrukking onder sy bewind op aarde te kan oorleef.

In die Amillennialisme (antichiliasme) het die boodskap van die meeste Bybelse profesieë as gevolg van die vergeestelikingsbeginsel nie ‘n letterlike betekenis nie en spreek dus geen persoon op ‘n konkrete en direkte manier aan nie. Antichiliasme is gevolglik tot ‘n allegoriese of ‘n historiese (preteristiese) verklaring van Bybelse profesieë verbind. Die allegoriste beweer dat daar nooit ‘n persoonlike Antichris was of sal wees nie, omdat dié begrip volgens hulle net as ‘n onpersoonlike element van boosheid gesien moet word. Ook ontneem hulle die volk Israel sy identiteit en land, en pas die begrip “Israel” op alle gelowiges in die Nuwe Testament toe. Gebeure in die land Israel spreek hulle dus nie aan nie, so ook nie ander tekens van die tye nie.

Die preteriste soek na die historiese vervulling van eindtydse profesieë. Sommige van hulle beweer dat die Romeinse keiser Nero in die eerste eeu die Antichris was, en ander sê dat een van die pouse in dié rol pas. Vir hulle is profesieë oor die groot verdrukking, soos dié in Mattheus 24:21, reeds in die eerste eeu vervul. Hierdie verklaring is egter totaal in stryd met die Bybel, wat duidelik sê dat die verdrukking deur die wederkoms van Christus beëindig sal word: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word... en die kragte van die hemele sal geskud word... dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30). Uit 2 Thessalonicense 2:7-9 is dit ook baie duidelik dat die Antichris ‘n eindtydse verleier sal wees wie se openbare optrede gedurende die verdrukking ná die wegname van sy teëhouer (die ware kerk) sal begin, en daarna deur die wederkoms van Jesus Christus beëindig sal word.

‘n Antichiliastiese siening ondermyn die vertroue in Bybelse profesieë. Dit lei daartoe dat mense nie wederkomsgerig leef nie omdat hulle nie die salige hoop op die koms van die hemelse Bruidegom het nie. Die noodwendige gevolg hiervan is dat hulle as uitsiglose Christene ‘n ál meer materialistiese lewens- en wêreldbeskouing ontwikkel. Die kerkdispensasie is vir hulle die beloofde duisendjarige vrederyk op aarde waarin die duiwel gebind is.

Die postmillennialisme leer dat die wêreld al hoe beter word. Hulle glo dat die Here Jesus se wederkoms ná die huidige vrederyk van die kerkbedeling sal plaasvind. Hulle is só op die koninkryksteologie ingestel dat hulle nie skroom om die Bybel totaal buite sy dispensasionele verband toe te pas nie, ten einde nóú as konings te regeer, voorspoed op te eis en na willekeur tekens en wonders te doen. Die vrederyk moet vir hulle nóú sigbaar word!

Volgens die moderne, dispensasionele premillennialisme (die chiliasme) word geglo dat Jesus Christus éérs kom en daarna volg die beloofde vrederyk. Chiliaste glo in die letterlike vertolking van profesieë en kyk gevolglik na die vervulling van ‘n groot aantal Bybelse profesieë vooruit. Chiliasme is nougeset op grondwaarhede van die Woord van God ingestel, veral in die mate waartoe dit ons verhouding met die Here raak. Dit bevorder ‘n duidelike toekomsverwagting by Christene en bring mee dat die Here ‘n groter realiteit in hulle daaglikse lewe word. Hulle is daarop ingestel om wêreldgebeure in die lig van die profetiese woord te vertolk, en sodoende ‘n Bybelse patroon in kontemporêre gebeure te kan onderskei. Hulle besef die erns van die uur waarin ons leef, gedagtig daaraan dat die bedeling van die kerk vinnig na sy einde toe spoed. Hulle verwag eerste die koms van Jesus Christus en nie die vooraf openbaring van die Antichris nie. Hulle besef dat hulle in hierdie bedeling, deur die krag van die Heilige Gees, ‘n teëhouende rol ten opsigte van die komende Antichris en sy verderflike ideologie moet vervul.

Verstaan van die Bybel

In die lig van bogenoemde denkrigtings is dit belangrik dat elke Christen vir homself duidelikheid oor die korrekte sienswyse verkry. 'n Kardinale vraag in verband met die profesieë is: Hoe lees ons die Bybel? Wanneer ons die profetiese woord ondersoek, is hierdie vraag van deurslaggewende belang. Uit ‘n bestudering van die vervulling van Ou Testamentiese profesieë kan elke persoon vir homself besluit of hy met die letterlike verklaringsmetode saamstem, en of hy liewer op ‘n allegoriese wyse na ‘n meer verborge betekenis agter dit wat geskryf is, wil soek. Die twee belangrikste sienings oor die wederkoms, naamlik die chiliasme wat ‘n duisendjarige vrederyk van Jesus Christus ná die wederkoms op aarde verwag, en die antichiliasme wat op ‘n geestelike koninkryk gedurende die kerkbedeling ingestel is, kan met die letterlike en allegoriese verklaringsmetodes onderskeidelik, in verband gebring word.

Die letterlike, of normale wyse waarop ons die Bybel lees, leer ons inderdaad die dinge waaraan ons as chiliaste glo. Hamilton, wat self ‘n antichilias is, erken hierdie feit in sy boek, The Basis of Millennial Faith, wanneer hy sê: “Ons moet eerlik erken dat ‘n letterlike interpretasie van Ou Testamentiese profesieë aan ons dieselfde beeld van ‘n aardse Messiaanse ryk bied as dit wat deur die chiliaste geleer word.” Hamilton erken dus dat die verskil tussen chiliasme en antichiliasme nie is of die Bybel ‘n duisendjarige koningskap van Christus leer nie, maar hoe die Skrif wat wél so ‘n koningskap leer, geïnterpreteer moet word – letterlik of allegories.

Verskeie verklaringsmetodes van die Bybel is deur die eeue heen gevolg. Daar is egter twee wat werklik van belang is, veral in die bestudering van profesieë, en dit is die allegoriese en grammaties-historiese metodes. Laasgenoemde is die letterlike verklaringsmetode. In sy Dictionary of the Christian Church definieer McDonald allegorie soos volg: “Die gebruik van taal om ‘n dieper en verskillende betekenis oor te dra as dit wat basies gekonstateer word.” ‘n Allegoriese verklaring moet duidelik van ‘n simboliese verklaring onderskei word. Die Bybel maak dikwels, ook in profesieë, van simboliese taal gebruik. ‘n Simbool, wat in sigself nie altyd ‘n besondere betekenis het nie, word dan gebruik om ‘n bepaalde gedagte, persoon of gebeurtenis by die leser tuis te bring. Dit is dan uit die verband duidelik dat dit ‘n simbool is en ‘n ander verklaring moet hê, bv. die dier met die sewe koppe wat op die Antichris dui.

By ‘n allegoriese verklaring het die Skrifwoord self egter wél ‘n duidelike en voor die hand liggende verklaring, maar die leser besluit dat hy iets anders daarin wil lees en ken dan willekeurig ‘n geestelike of figuurlike betekenis daaraan toe. Hy verklaar byvoorbeeld “Israel” in die Nuwe Testament as “die kerk”, die 144 000 Jode van Openbaring 7 wat vroeg in die verdrukking gered sal word, word vir hom al die miljoene gelowiges van alle tye, en die komende duisendjarige vrederyk word die veel langer kerkdispensasie waarin die duiwel volgens die allegoriese verklaarder nou reeds gebind is.

Dié verklaarder onderwerp homself dus nie aan die gesag van die Skrif om ‘n betekenis daaruit te haal nie (uitlegkunde of eksegese), maar kom met ‘n vooropgestelde idee wat dan in die Skrif ingelees word (inlegkunde). Dit word die vervangingsteologie genoem waarin die grondbetekenis van ‘n woord deur ‘n ander betekenis vervang word. Angus en Green praat in The Bible Handbook ook van dié gevaar wanneer hulle sê: “Daar is ‘n onbeperkte moontlikheid vir vrysinnige vertolkings wanneer hierdie beginsel erken word en die enigste basis vir Skrifverklaring in die gedagtes van die verklaarder gevind word. Geen egte Skrifverklaring kan op hierdie wyse gedoen word nie.”

In sy Protestant Biblical Interpretation voeg Bernard Ramm die volgende by: “Om te beweer dat die grondbetekenis van die Bybel ‘n sekondêre betekenis is, en dat die belangrikste metode van Skrifverklaring die vergeestelikingsmetode is, is om die deur vir feitlik onbeheerde spekulasie en verbeelding oop te maak. Om hierdie rede dring ons daarop aan dat beheer oor interpretasie deur die letterlike metode uitgeoefen word.”

Die allegoriese metode van interpretasie word byna nooit konsekwent toegepas nie, want dit berus by die interpreteerder om te besluit wanneer hy die normale betekenis van ‘n Skrifwoord wil aanvaar, en wanneer hy dit wil vergeestelik. Daar is dus geen beheer oor dit wat iemand uit die Bybel haal nie, en die Bybel self het nie meer beheer oor hoe dit gelees word nie. O.T. Allis erken die gevaar hiervan wanneer hy sê: “Die vraag of die figuurlike of geestelike interpretasie van ‘n bepaalde gedeelde geregverdig is of nie, hang slegs daarvan af of dit die ware betekenis weerspieël. Wanneer hierdie metode van verklaring gebruik word om woorde van hulle duidelike en voor die hand liggende betekenis te ontledig om vir ander betekenisse plek te maak, dan is dit heeltemal geregverdig om allegorisering, of vergeesteliking, as ‘n oneerbare en verwerplike metode van Skrifverklaring te beskryf.”

In sy gesaghebbende boek, Things to Come, gee Dwight Pentecost die volgende definisie van die letterlike metode van Skrifverklaring: “Die letterlike metode van interpretasie is daardie metode wat aan elke woord dieselfde betekenis toeskryf as wat dit in die gewone, alledaagse gebruik van die spreektaal, skryf- of denkwyse het. Dit word die grammaties-historiese metode genoem om die feit te beklemtoon dat betekenis deur beide die grammatiese konstruksie en die historiese verband waarin die woord gebruik is, bepaal word." Wanneer ‘n woord ‘n logiese betekenis het in die verband waarin dit gebruik word, dan mag dit nie simbolies opgeneem en anders verklaar word nie: “When the plain sense of the word makes common sense, then seek no other sense.”

Die sterkste bewys vir die letterlike verklaring is die wyse waarop die Nuwe Testament van die Ou Testament gebruik maak. ‘n Mens kan maar net kyk na die Ou Testamentiese profesieë oor Christus wat in die Nuwe Testament vervul is, naamlik oor sy geboorte, sy lewe, sy werk en sy dood. Geen een van hierdie profesieë is anders as letterlik vervul nie. Die Ou Testament gee meer as 300 uitdruklike voorspellings aangaande die eerste koms van Christus, sodat dit vir elke Fariseër en skrifgeleerde duidelik moes wees wie Jesus is. Tóg het hulle die Here Jesus nie as Messias herken en aanvaar nie, maar die waarheid onderdruk en hulle eie mense mislei. Waarom het hulle dit gedoen?

Die ganse sisteem van die verdoeseling en versluiering van Bybelse profesieë deur middel van allegoriese interpretasie, is ‘n duidelike set van die Satan om mense te laat vergeet van die koms van ons groot geestelike Verlosser wat as Persoon van die hemel af sal kom om hier te regeer. Tydens Christus se eerste koms het Israel die voorspellings oor sy koms geïgnoreer en moes die bitter gevolge daarvan dra. Hulle sou vir eeue lank geestelik verblinde voortvlugtendes onder die nasies wees omdat hulle die gunstige tyd toe God hulle deur die Messias besoek het, nie opgemerk het nie (Matt. 23:37-39; Luk. 19:41-44; 21:20-24).

Die letterlike interpretasie beteken slegs dat ons die Bybel op ‘n normale wyse lees soos wat hy homself vir ons aanbied. Simboliese en figuurlike taal word verklaar, maar dan het daardie simbool nog steeds ‘n letterlike teëbeeld, of objek, waarop dit dui. Jesaja 11:1 sê byvoorbeeld dat daar ‘n takkie uit die stomp van Isai uitspruit, en ‘n loot uit die wortels, wat vrugte dra. Die verklaring hiervan is natuurlik dat Jesus Christus as ‘n letterlike, historiese figuur sou verskyn, en dat Hy al die dinge sou doen wat duidelik in die res van die hoofstuk beskryf word.

Ons hoef nie eers verder as die boek Jesaja te gaan om hierdie punt te demonstreer nie. Die onderstaande profesieë verwys almal na die Persoon en werke van die Here Jesus as die beloofde Messias, Verlosser en Koning van Israel én die hele wêreld. Alle profesieë wat op sy eerste koms betrekking het, is letterlik vervul. Ons kan daarop reken dat dié wat tydens en ná sy wederkoms vervul sal word, nét so letterlik bewaarheid sal word. Jesaja sê:

  • Hy sal voor sy geboorte al geroep word om die Here se Dienskneg te wees (49:1).
  • Hy sal uit 'n maagd gebore word (7:14).
  • Hy sal ‘n afstammeling van Ísai wees en dus uit die geslag van Dawid kom (11:1,10).
  • Die Heilige Gees sal op Hom rus (11:2; 42:1).
  • Hy sal meegevoel met die swakkes hê (42:3).
  • Hy sal sy opdrag in gehoorsaamheid aan God uitvoer (50:4-9).
  • Hy sal Homself gewilliglik aan lyding oorgee (50:6; 53:7-8).
  • Hy sal deur Israel verwerp word (49:7; 53:1,3).
  • Hy sal die sondes van die wêreld op Homself neem (53:4-6).
  • Hy sal die dood oorwin (53:10).
  • Hy sal verhoog word (52:13; 53:12).
  • Hy sal kom om Israel te troos en die goddeloses te straf (61:1-3).
  • Hy sal God se heerlikheid openbaar (49:3).
  • Hy sal Israel fisies in hulle land herstel (49:8).
  • Hy sal Israel geestelik herstel en na die Here teruglei (49:5).
  • Sy koninkryk sal tot aan die eindes van die aarde strek (49:6).
  • Hy sal van die troon van Dawid af regeer (9:6).
  • Hy sal self God genoem word (9:5).
  • Hy sal blydskap vir Israel bring (9:2).
  • Hy sal 'n nuwe verbond met Israel sluit (42:6; 49:8-9).
  • Hy sal die lig van die hele wêreld wees (42:6; 49:6).
  • Hy sal die nasies herstel en vestig (11:10).
  • Hy sal deur die nasies aanbid en vereer word (49:7; 52:15).
  • Hy sal in getrouheid en geregtigheid oordeel (11:3-5; 42:1,4).

Daar kan geen twyfel oor die letterlike vervulling van profesieë oor die Messias wees nie. Hy is tydens sy eerste koms uit ‘n maagd in die koningshuis van Dawid gebore, Hy is deur Israel verwerp, Hy het ter wille van die redding van alle sondaars gesterf en die dood oorwin. Tydens sy tweede koms sal Hy as Koning Israel fisies én geestelik herstel, wraak neem op sy vyande, die oorblyfsel van die nasies red, en as die sterkte God van die troon van Dawid af regeer. In sy regering sal daar vrede op aarde wees (Jes. 2:4) en Jerusalem sal as internasionale hoofstad verhef word tot ‘n lof op aarde (Jes. 2:2-3; 62:6-7). Al die nasies sal die Messias en sy volk, Israel, eer en gewillige onderdane van die Messiaanse ryk op aarde wees (Jes. 60:11-18). Hoe kan ons anders as om die ontsagwekkende en wonderlike implikasies van die Messias se wederkoms letterlik te verstaan? Deur dit te doen, eer ons Hom en sy Woord!

Die letterlike verklaringsmetode negeer nie die groot geestelike waarhede in die Bybel nie, want alles wat ‘n geestelike betekenis het word op 'n normale wyse geestelik verstaan. Dit is juis die fisiese verwagting van dit wat kom, wat ons tot die grootste mate van geestelike paraatheid, toewyding aan Jesus Christus en vervulling met die Heilige Gees aanspoor. Ons kennis van die profesieë verskans ons teen die Antichris se misleiding, wat nou al volstoom aan die werk is. Ons aktuele verwagting van dit wat gaan kom, bevry ons ook van ‘n onbybelse koninkryksteologie wat in die huidige bedeling op aansien, rykdom, sorgeloosheid en die ervaring van allerlei bonatuurlike tekens, manifestasies en wonderwerke gebaseer is.

Die Fariseërs het Jesus se geloofsbriewe tydens sy eerste koms verwerp. Die kerk as instituut sal, met slegs geringe uitsonderings, ook aan die slaap gevang word en sal die Here Jesus se geloofsbriewe tydens sy tweede koms verwerp. Die meerderheid Christelike kerke sal deur hulle eie toedoen geen ander keuse hê nie, want hulle verwerp nou reeds al die duidelike tekens wat die wederkoms voorafgaan (Luk. 12:54-56). Wie sal die verantwoordelikheid vir hierdie profetiese uitsigloosheid in die kerk aanvaar – miskien Origenes en sy allegoriese navolgers?

 

 

3. Die Openbaring van Verborgenhede

Openbaring is die laaste Bybelboek wat onder direkte goddelike inspirasie geskryf is, en dit bevat ‘n baie belangrike boodskap vir die kerk van Christus, die volk Israel én die miljoene ongelowige mense onder alle nasies. Die finale vervulling van ‘n groot aantal waarskuwings en beloftes wat in die Bybel gemaak is, word hierin bespreek. Agtergrondkennis word by die lesers veronderstel, daarom moet daar eers ‘n basiese kennis van die Ou- én Nuwe Testamente opgedoen word voordat hierdie boek reg verstaan en ‘n intensiewe studie daarvan gemaak kan word. Dit bevat die laaste belangrike stellings van die Bybel oor verskeie sake.

In terme van die beginsel van progressiewe openbaring in die Bybel, word daar in hierdie boek benewens die verdere uitbreiding van bestaande kennis ook feite genoem en verborgenhede geopenbaar wat nie in voorafgaande Bybelboeke aangetref word nie. Die boek is dus duidelik op bestaande kennis gebou, maar brei ook verder daarop uit. Kom ons kyk kortliks na die belangrikste Skriftuurlike feite wat in Openbaring as gegewe beskou word en waarop daar in baie gevalle verder uitgebrei word:

Die godheid en ewige selfbestaan van die Here Jesus. Jesus is Here (Heb. Jahweh, Gr. Kurios – Hand. 10:36) en God (Heb. Elohim, Gr. Theos – Rom. 9:5). Jesaja het Hom in die Ou Testament reeds as die Sterke God beskryf (Jes. 9:5). Paulus sê: “Jesus Christus is die Here” (Fil. 2:11); Petrus verwys na Hom as “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1); en Johannes sê: “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Die Here Jesus het na sy ewige selfbestaan verwys toe Hy gesê het: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). In Openbaring bevestig Hy hierdie verhewe gedagtes oor Homself wanneer Hy verder daarop uitbrei: “Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige” (Op. 1:8).

Die koningskap van die Here Jesus. Hoewel Jesus tydens sy eerste koms as Koning na die aarde toe gekom het (Matt. 21:5; Joh. 18:37), is Hy nie by daardie geleentheid as Koning deur Israel en die nasies aanvaar nie. Hy sal egter terugkom en as Koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het (1 Kor. 15:25). In Openbaring word die Here Jesus as “die Owerste oor die konings van die aarde” beskryf (Op. 1:5), wat al die aardse koninkryke sal oorneem en as Koning sal heers tot in alle ewigheid (Op. 11:15; 19:6). Dan sal Hy universeel as “die Koning van die konings en die Here van die here” (Op. 19:16) erken word.

Die verlossingsleer. Die kern van die verlossingsleer, naamlik dat die Here Jesus sy lewe aan die kruis afgelê het om die straf vir ‘n verlore mensdom se sondes te betaal en deur genade almal wat hulle tot Hom bekeer, vry te koop (Ef. 1:7; 1 Pet. 1:18-19), word telkens in Openbaring bevestig. Johannes sê: “Hy het ons liefgehad en ons van ons sondes gewas in sy bloed” (Op. 1:5). Die verheerlikte kerk sal in die hemel aan Hom lof betuig omdat Hy hulle met sy bloed gekoop het (Op. 5:9). Met die oog hierop word Jesus dikwels in Openbaring die “Lam” genoem (Op. 5:12), wat verwys na die feit dat Hy vir die sondes van die hele wêreld geoffer is (Joh. 1:29).

Die Nuwe Testamentiese gemeente. Die beskrywing van Christus as die Hoof van die gemeente (Rom. 12:4-5; Ef. 5:23) word treffend in Openbaring uitgebeeld waar Hy tussen die sewe kandelaars wandel (Op. 1:11-16) en ‘n indringende beoordeling van die tipiese swak en sterk punte van die Christelike kerk op aarde doen (Op. 2–3). Deur die Heilige Gees is Hy in die midde van sy gemeente op aarde; Hy is intiem van hulle werke en gesindhede bewus en sal hulle in die lig daarvan beoordeel. Diegene wat Hom nie waarlik met rein motiewe dien en liefhet nie, sal verwerp word (Op. 2:5; 2:14-16; 2:21-22; 3:3; 3:15-16). Hieruit is dit duidelik dat daar baie dwalings, valse leerstellings en nominale, ongeredde lidmate in Christelike kerke is.

Die oordele van die dag van die Here. Die boek Openbaring is die finale bevestiging dat al die profesieë oor die oordele van die dag van die Here wat in die Ou Testament opgeteken is, letterlik vervul sal word (Jes. 13:9-13; Joël 2:1-2,11). In hierdie tyd sal die Here oordele oor Israel uitstort wat as volk nog steeds die Messias verwerp (Jer. 30:7), asook oor die rebelse nasies wat hulle aan dieselfde sonde skuldig maak deur ook vir Jesus te verwerp. Aan die einde van hierdie tyd van oordeel sal ‘n oorblyfsel in Israel gered word (Jes. 24:1-23). Omdat die ware kerk nie vir die oordele van die dag van die Here bestem is nie, word die komende verdrukking in die Nuwe Testament net op Israel en die ongelowige nasies van toepassing gemaak (Matt. 24:15-30). Paulus het aan die vervolgde Christene van sy tyd die vaste versekering gegee dat hoewel hulle in hierdie goddelose wêreld vir verdrukkinge bestem is (1 Thess. 3:3-4), hulle nie die oordele van die dag van die Here sal beleef nie (1 Thess. 1:10; 5:9). Hulle moes ‘n duidelike onderskeid tussen verdrukking deur ‘n nie-Christelike wêreld, en die oordele van God oor ‘n sondige wêreld tref. Omdat die Antichris se optrede as wêreldleier deel van die tyd is waarin God hierdie bose leier en sy volgelinge sal oordeel, moet die teëhouer van die Antichris (die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees) eers weggeneem word voordat hy geopenbaar kan word en die verdrukking ‘n aanvang kan neem (2 Thess. 2:6-8). Ons weet dus vir seker dat dit eers ná die kerkbedeling sal wees wanneer die groot dag van die Here se toorngloed in die verdrukking sal aanbreek (Op. 6:17).

Die geestelike herstel van Israel. Alle Bybelse profesieë oor Israel se herstel word as bekende agtergrondkennis in Openbaring aanvaar. Johannes bevestig nie alleen die feit dat die Joodse volk aanskouers van Jesus se wederkoms sal wees nie (Op. 1:7), maar ook dat hulle geestelike herstel by die redding van 144 000 persone “uit al die stamme van die kinders van Israel” sal begin (Op. 7:4). Dit sal reg aan die begin van die verdrukking plaasvind, en verhoed dat alle Jode volgelinge van die valse messias word. Johannes beskryf ook Israel se vlug na die woestyn in die middel van die verdrukking (Op. 12:13-17), asook die mobilisasie vir ‘n wêreldoorlog wat net voor en tydens die wederkoms van Christus in Israel gevoer sal word (Op. 16:13-16; vgl. Sag. 14:2-3).

Die herlewing van Babilon. Daar is verskeie Ou Testamentiese profesieë wat op die absolute en permanente vernietiging van die stad Babilon én die Babiloniese ryk dui (Jes. 13:19-22; Jer. 51:26,61-64). Hierdie profesieë is nog nooit ten volle vervul nie, daarom lees ons in Openbaring 18 eers van die finale vernietiging van Babilon. Die valse Babiloniese wêreldgodsdiens wat deur die eeue heen in verborgenheid onder die nasies bestaan het, sal ook in die verdrukking vernietig word (Op. 17). Ons kan Openbaring 17 en 18 slegs ten volle verstaan indien hierdie twee hoofstukke teen die agtergrond van die wêreldwye verspreiding van die Babiloniese godsdiensstelsel beoordeel word, asook in die lig van profesieë oor die vernietiging van die laaste Babiloniese wêreldryk wat net voor die wederkoms van Christus sal bestaan.

Die nuwe hemel en nuwe aarde. Meer inligting word in Openbaring 21 en 22 oor die Bybelse beloftes van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde aangebied. Dit sluit by tekste soos Jesaja 65:17 en 2 Petrus 3:13 aan, maar verskaf veel meer detail hieroor – veral oor die nuwe Jerusalem wat op die nuwe aarde sal neerdaal.

Nuwe Testamentiese verborgenhede

Behalwe die feit dat Openbaring bestaande Bybelse kennis bevestig en verder daarop voortbou, openbaar dit ook sekere verborgenhede wat nie in ander Bybelboeke bespreek word nie. In die Nuwe Testament is daar talle verborgenhede geopenbaar wat nie in Ou Testamentiese tye bekend gemaak is nie, en Johannes bevestig die progressiewe openbaring van God se wil deur hierdie gebruik in sy boek voort te sit. Die volgende is van die bekendste verborgenhede wat in die Nuwe Testament geopenbaar is, en wat almal vir die beter verstaan van Openbaring belangrik is omdat dit in die lig van reeds bestaande kennis geskryf is:

Die verborgenheid van die koninkryk. Die Here Jesus het deur gelykenisse gepraat en dinge uitgespreek wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af (Matt. 13:35). Hierdeur het Hy verborgenhede aan sy dissipels bekend gemaak, maar die ander mense het nie verstaan wat Hy gesê het nie (Matt. 13:11). Hy het aan sy dissipels verduidelik dat sy koninkryk in die Nuwe Testamentiese bedeling verborge sal wees, m.a.w. onsigbaar vir die wêreld. Dit sal saam met die koninkryk van die duisternis op aarde bestaan, soos koring en onkruid wat saam in een land groei, of soos goeie en slegte visse wat saam in een net is. Hierdie koninkryk is geweldig kosbaar, soos ‘n pêrel van groot waarde. Indien iemand dit ontdek, verkoop hy alles wat hy het en koop dit, m.a.w. niks anders is vir hom van groter waarde nie (Matt. 13:36-48). ‘n Persoon moet weergebore word om hierdie koninkryk te kan beërf (Joh. 3:3). Wanneer die Koning kom, soos in Openbaring 19:11-16 beskryf, sal hierdie koninkryk geopenbaar word. Die verheerlikte kerk van Christus sal saam met Hom geopenbaar word (Kol 3:4) en daarna saam met Hom as konings in sy ryk regeer (Op. 5:10; 20:4). Alle nasies sal in die voordele hiervan deel (Op. 20:3).

Die verborgenheid van Jesus se godheid. Die verborgenheid van Christus (Ef. 3:4) is dat God met sy koms na die aarde in die vlees geopenbaar is (1 Tim. 3:16). “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9). Hy het gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Indien die feite oor die godheid van die Here Jesus nie aanvaar word nie, kan sy verhewe posisie in Openbaring nie begryp word nie. Is die verborgenheid van Jesus Christus se godheid al deur die Heilige Gees in die Bybel aan jou geopenbaar en aanvaar jy dit ten volle? Dan sal jy verstaan waarom die Bybel selfs al in die Ou Testament oor sy wederkoms ná die verdrukking sê: “Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:5). Hy is nie ‘n mens met goddelike eienskappe nie, maar God self.

Die verborgenheid van die liggaam van Christus wat uit gelowiges uit alle nasies bestaan (Ef. 3:3-6; Kol. 1:26-27). Die sleutelbegrip vir lidmaatskap van hierdie liggaam het hoegenaamd niks met afkoms te doen nie en is dus nie net tot een volk, soos Israel, beperk nie. Deur geloof in Christus kan persone uit alle nasies lede van sy liggaam word, wat sy gemeente op aarde is. Dit is die rede waarom die verheerlikte kerk in Openbaring sê dat hulle uit elke stam en taal en volk en nasie op aarde kom (Op. 5:9). Teen die tyd dat die boek Openbaring geskryf is, is hierdie verborgenheid lankal reeds bekend gemaak en word dit duidelik in sommige van die profesieë weerspieël.

Die verborgenheid van die evangelie van genade. Dit verwys na die evangelie van verlossing in Christus Jesus (Ef. 6:19), naamlik dat ons nie deur die werke van die wet gered word nie, maar uit genade deur die geloof. Dit is waarom Johannes sê dat die Here Jesus ons van ons sondes gewas het in sy bloed (Op. 1:5). Aan sy getroue volgelinge in die gemeente van Pérgamus sê Christus: “Jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie” (Op. 2:13). Geloof in die Here Jesus is die sleutel tot bekering en wedergeboorte. ‘n Sondaar wat sy geloof in Christus as Verlosser stel, bely sy sondes met berou (bekering) en word dan geestelik deur die Here nuut gemaak (wedergeboorte).

Die verborgenheid van Israel se tydelike verharding. Paulus het ‘n vooraf onbekende feit bekend gemaak toe hy in Romeine 11 gesê het dat Israel as volk gedurende die hele Nuwe Testamentiese bedeling geestelik verhard en verblind sou wees: “Ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie... dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26). In Openbaring 7 word dit bevestig dat die geestelike herstel van Israel ná die kerkbedeling by die redding van 144 000 Jode sal begin.

Die verborgenheid van die eerste opstanding en die wegraping daarna. Paulus sê: “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: ons [die gemeente] sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Kor. 15:51-52). Direk hierna sal die gelowiges wat deel in die eerste opstanding gehad het, na die hemel weggevoer word: "Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (1 Thess. 4:16-18). In Openbaring is dit duidelik dat hierdie verborgenhede ‘n geruime tyd reeds bekend was, want Johannes verwys net kortliks daarna sonder om dit verder te verduidelik. In Openbaring 2 en 3 beskryf hy die kerk op aarde en in Openbaring 4 en 5 in die hemel. Die verheerlikte gemeente is skielik na die hemel verplaas, wat duidelik op die veronderstelling gebaseer is dat die eerste opstanding en wegraping reeds plaasgevind het. In Openbaring 20 word dit bekend gemaak dat die eerste opstanding alle gelowiges insluit wat voor die aanvang van die duisendjarige vrederyk opgewek word – dit sluit die martelare van die verdrukking in (Op. 20:4). Hoewel laasgenoemdes eers ná die wegraping gered sal word, sal hulle ook verheerlikte liggame ontvang voordat die vrederyk begin. Al die gelowiges staan dus op voordat die Here Jesus terugkom om sy duisendjarige ryk te vestig, want hulle gaan saam met Hom in hierdie regering deel: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6). Die ongelowiges sal eers ná die duisendjarige vrederyk opgewek word om voor die groot wit troon tot die ewige verderf veroordeel te word: “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Op. 20:5). Die leer oor die twee opstandings is ‘n verdere, duidelike onderskeid in God se handelswyse met die regverdiges en onregverdiges.

Die verborgenheid van die ongeregtigheid. Paulus praat van die verborge werking van die Antichris se gees dwarsdeur die kerkbedeling, tot in die eindtyd wanneer hierdie verborgenheid in ‘n persoon, die Antichris, geopenbaar sal word: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:7-8). Eers nadat die ware kerk van die aarde af weggeneem is, sal die Antichris geopenbaar word. ‘n Paar jaar later sal hy deur die verskyning van Christus verdelg word. In Openbaring 6 lees ons van die openbaring van die Antichris, in Openbaring 13 van sy verdere optrede en in Openbaring 19 van sy summiere veroordeling en verdelging wanneer Jesus Christus weer kom.

Die verborgenheid van die ontugtige vrou op die dier se rug. In Openbaring 17:7 sê die engel vir Johannes: “Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra.” Hierdie is twee verborgenhede wat nie tevore in enige ander Bybelboek bekend gemaak is nie. Die eerste een is die ontugtige vrou. Sy word genoem: “die hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het... en die vrou was bekleed met purper en skarlaken... en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus” (Op. 17:2-6). Openbaring maak die volgende kenmerke en doelstellings van hierdie vrou bekend:

  • Haar naam is “Verborgenheid, die groot Babilon.” Sy is die onsigbare, godsdienstige organisasie wat die grondslag van die heidense, Babiloniese kultuur vorm. Ná die val van Babel het sy in verborgenheid, in die vorm van verskeie valse godsdienste, onder die nasies voortbestaan. Sy het haar invloed na die hele wêreld uitgebrei, want die konings van die aarde het geestelike owerspel met haar gepleeg deur haar in die plek van die ware God lief te hê en te dien.
  • Sy is “die moeder van die hoere.” Uit haar het al die valse godsdienste van die wêreld ontwikkel, daarom is daar ‘n geestelike band tussen almal van hulle. In die eindtyd sal sy as ‘n moederorganisasie gestalte aanneem deur ‘n ekumeniese band tussen al die valse gelowe te skep sodat sy namens almal van hulle ‘n internasionale drukgroep kan vorm. Sy sal ook tot haar plek van oorsprong in die Midde-Ooste aangetrokke voel en spesifiek met die naam “Babilon” identifiseer.
  • Sy sal die gees van die Antichris adem en haarself uitdruklik teen die godheid en verlossingsplan van die ware Christus uitspreek. Verskeie valse profete in nominaal Christelike kerke sal openlik met haar assosieer deur te beweer dat die aanhangers van alle gelowe dieselfde God aanbid en dus elkeen op sy eie manier saligheid kan verkry. Op hierdie wyse word die godheid van die Here Jesus, sy versoeningswerk aan die kruis en die waarheid van die Bybel verloën en deur valse leerstellings vervang.
  • Sy sal die Antichris (die dier) as die enigste wêreldmessias erken en volgens Openbaring 13:11-18 en 19:20 godsdienstig ook met die valse profeet geassosieer wees wat die verering en aanbidding van die dier oral sal bevorder en afdwing. Sy sal die bloed van die getuies van Jesus aan haar hande hê, wat daarop dui dat sy almal sal laat vervolg wat sal weier om die dier te aanbid. Die dier sal groot magte aan haar verleen om dit te kan doen, daarom ry sy op die dier se rug en word deur hom ondersteun. Die verborgenheid van die dier word saam met dié van die vrou in Openbaring verklaar.

Die dier met die sewe koppe is die Antichris. Die sewe koppe verwys na sewe goddelose wêreldryke, waarvan die sewende een die eindtydse ryk van die dier sal wees. Dit sal egter ook elemente van al die vorige wêreldryke bevat. Sy ryk sal net so letterlik soos die vorige ses wees, waarvan die eerste een die Babiloniese ryk van Nimrod en die laaste een die Romeinse ryk was. Hoewel daar in die Bybel dikwels na die Antichris verwys word, word daar in Openbaring aspekte van sy optrede en goddelose diktatuur genoem wat tot in daardie stadium onbekend was.

Om Openbaring reg te kan verstaan, moet dit in samehang met ander profetiese gedeeltes in die Bybel gelees en verklaar word – ook in die lig van verborgenhede wat elders al verklaar is. As die laaste Bybelboek bied dit aan ons eskatologiese perspektiewe op sowel Israel as die kerk en die nasies. Dit werp lig op die reddende genade én oordele van die Here, en verskaf aan ons meer inligting oor die ewige bestemming van die smal en die breë weg. ‘n Deeglike kennis van die boek Openbaring help ons om die volle raad van God vir die mens te verstaan en sodoende vir toekomstige gebeure gereed te wees.

Beloftes en waarskuwings

Die groot doel met die openbaring van Nuwe Testamentiese verborgenhede is om aan die ware Christene ‘n salige hoop op die koms van die hemelse Bruidegom voor die aanbreek van God se oordele te bied. Ook word waarskuwings aan Israel en die nasies gerig dat hulle weens ongeloof deur ‘n tyd van groot benoudheid sal gaan sodat ‘n laaste oes onder hulle ingesamel kan word. In Openbaring word alle Christus-verwerpende sondaars wat steeds weier om tot bekering te kom en deel van hierdie oes te wees, finaal oor die sekerheid van die ewige oordeel in die poel van vuur gewaarsku.

Ná die donker nag van God se oordele sal Hy ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep waarin geregtigheid woon, en sy heerlikheid ten volle geopenbaar sal wees. Is jy ‘n mede-erfgenaam van Christus in hierdie koninkryk? (Rom. 8:17). Die verheerlikte Here Jesus het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut... Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir my ‘n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel” (Op. 21:5-8). Daar is net twee bestemmings vir die mens: óf die hemel óf die hel. Sonder Jesus Christus en sy reddende genade sal niemand die koninkryk van die hemel beërf nie. Almal, ook godsdiensleiers, moet duidelik van die vereiste van wedergeboorte kennis neem, want die Here Jesus het vir ‘n onkundige prediker gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3).

Openbaring is nie ‘n simboliese boek wat daarop ingestel is om sake wat mense se geestelike lewe en ewige toekoms raak, te versluier en verborge te hou nie. Konkrete uitsprake word onder meer oor die volgende onderwerpe gemaak:

  • Die koninkryke van God en Satan word in verdere detail in hulle samestelling, doelstellings en die onafwendbare konfrontasie tussen hulle geopenbaar. Meer besonderhede word oor Satan se valse christus en sy medewerkers verskaf, veral in sy hoedanigheid as die politieke, godsdienstige en ekonomiese hoof van die sewende en laaste wêreldryk op aarde tydens die sewe jaar lange verdrukking.
  • Onderskeid word tussen geredde en ongeredde mense getref, en ook tussen die hemel en die poel van vuur as die ewige bestemmings van hierdie twee groepe. Openbaring bevestig die feit dat daar twee opstandings, ‘n duisend jaar uitmekaar, vir dié twee groepe mense is.
  • ‘n Duidelike verskil word tussen ware en valse vorms van godsdiens gemaak. Hieruit blyk dit ondubbelsinnig dat sommige gemeentes só ver van die waarheid afgedwaal het dat Christus die lig van sy teenwoordigheid aan hulle sal onttrek (Op. 2:4-5), teen die afvalliges oorlog sal voer met die swaard van sy Woord (Op. 2:16), die navolgers van vreemde leerstellings en afgodediens in die groot verdrukking sal werp (Op. 2:22), en die aanhangers van die geestelik dooie voorspoedsevangelie uit sy mond sal spuug (Op. 3:16-17).
  • Die verskil tussen die ware kerk as die bruid van Christus en die valse kerk as die bruid van die Antichris, word in ryk, beeldende taal beskryf. Die bruid van Christus sal in die ewige heerlikheid van die nuwe Jerusalem deel (Op. 21:2-7), terwyl die bruid van die Antichris as die moeder van die hoere beskryf word wat deur die Antichris en sy mede-regeerders verdelg sal word wanneer haar rol as die misleier van die nasies uitgedien is (Op. 17:16). In Openbaring word hierdie ontugtige vrou en haar rol in die eindgebeure vir die eerste keer bekend gemaak.
  • Groot duidelikheid word in Openbaring oor God se attribute van barmhartigheid en toorn gegee. Hy sal steeds barmhartigheid aan almal betoon wat hulle deur Jesus Christus tot Hom bekeer, maar ongekende toorn oor sy vyande uitstort wat weier om hulle van hul ongeloof en bose werke te bekeer.
  • God sal sy eeue-oue verbond met Israel gestand doen deur ‘n oorblyfsel van die volk tydens die groot verdrukking van uitwissing deur die valse messias en sy magte te bewaar, die gelowige oorblyfsel in Israel te red, in hulle land te vestig en in al die seëninge van die Messiasryk te laat deel.
  • In Openbaring word ‘n konkrete stelling oor die lengte van die vrederyk gemaak, naamlik ‘n duisend jaar. Nie net sal Israel in hierdie tyd die Here van harte dien nie, maar die verheerlikte kerk sal saam met Christus as konings regeer. Dit sal die laaste bedeling wees voordat die Here ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde sal skep waarin geen ongeregtigheid sal kom nie.

Mense wat nie die volle implikasies van die letterlike vervulling van Bybelse profesieë in ag neem nie, word deur Christus self verkwalik omdat hulle nie logiese gevolgtrekkings van duidelike feite kan maak nie (Matt. 16:1-3; Luk. 12:54-56). Die Here het nie hierdie lewensbelangrike kennis in sy Woord aan ons verborge gehou nie, maar vir ons volle kennisname geopenbaar. Diegene wat nie daarop reageer nie, sal in die proses baie skade ly en net hulleself kan blameer vir die gevolge wat hulle sal moet dra.

 

4. Onderskeid tussen Israel en die Kerk

Vir die regte verstaan van die Bybel, en veral ook van Bybelse profesieë, is dit van die grootste belang dat ons ten alle tye duidelik tussen Israel en die kerk kan onderskei. Hierdie kennis sal ons help om die verskillende benaderings in Evangelies soos Mattheus en Lukas te kan verstaan, en ons daarvan vrywaar om bv. die kerk se toekoms uit Mattheus se weergawe van die profetiese rede te probeer aflei. In die lig van hierdie onderskeid sal ons geen probleem ondervind om verwysings na Israel, die kerk en die nasies in die gebeurtenisse wat in Openbaring beskryf word, te kan sien en reg te vertolk nie. Die feit dat geredde Jode tydens die kerkdispensasie deel van die gemeente van Christus word, verander geensins aan die feit dat daar profetiese beloftes aan hierdie volk gemaak is wat nét aan hulle vervul kan word nie. Dit sluit onder andere hulle fisiese, staatkundige en geestelike herstel in die land Israel in, wat die Here met ‘n eed aan hulle vaders, Abraham, Isak en Jakob, beloof het (Gen. 13:14-15; 26:3; 28:13).

Die dispensasie van Israel

Israel se heilsgeskiedenis het vierduisend jaar gelede by die roeping van Abraham begin. Hy was die eerste Hebreër (Gen. 14:13), daarom word sy nakomelinge deur Isak en Jakob Hebreërs genoem (Ex. 2:11) wat die Hebreeuse taal praat (Hand. 22:2). ‘n “Hebreër” beteken “Iemand wat oorgekom het.” Dit verwys na die feit dat die Hebreërs uit die heidendom na God se koninkryk oorgekom het. Abraham het ná sy roeping oor die Eufraatrivier getrek na ‘n land wat die Here aan Hom en sy nageslag gegee het.

Later, toe Jakob se naam na “Israel” verander is (Gen. 35:10), het sy nakomelinge in die twaalf stamme ook as “Israeliete” (“Stryders vir God”) bekend gestaan (Gen. 49:28). Dieselfde volk het verskeie eeue later ‘n derde naam bygekry, naamlik “Jode.” Een van die twaalf stamme van Israel, nl. Juda, het die koninklike stam geword. Nadat die Here Saul verwerp het, het Hy Dawid as koning verkies. Dawid was ‘n lid van die stam van Juda en uit sy nageslag is die Messias, Jesus, gebore. Ná die dood van Salomo is Israel in twee koninkryke verdeel, naamlik die suidelike tweestammeryk van Juda (die stamme van Juda en Benjamin) en die noordelike tienstammeryk van Israel. Mettertyd is daar na lede van die suidelike koninkryk as “Jode” verwys (2 Kon. 16:6).

Die verdeling van Israel in twee koninkryke is egter deur die Assiriese ballingskap van Israel en die Babiloniese ballingskap van Juda beëindig. In die ballingskap het die lede van al twaalf die stamme weer vermeng geraak en is as ‘n verenigde volk wat uit twaalf stamme bestaan, in hulle land herstel. Van toe af is die hele volk sowel “Jode” as “Israeliete” genoem, tot vandag toe (vgl. Esra 6:8,16-17,21; Neh. 1:6; 4:1; Joh. 3:1,10). In die Nuwe Testament word die vroeëre verdeling tussen die twee en die tien stamme hoegenaamd nie as ‘n bestaande werklikheid erken nie. Daar word 174 keer na dieselfde volk as “Jode” en 70 keer as “Israeliete” verwys. Beide name verwys na die verenigde volk van Israel met sy twaalf stamme. Paulus staan tereg oor die hoop wat die twaalf stamme op die koms van die Messias het (Hand. 26:6-7). Petrus spreek die inwoners van Jerusalem as Jode én as Israeliete aan (Hand. 2:14,22,36). Jakobus (1:1) rig sy brief aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is. Hierdie volk het dus drie name, te wete Hebreërs, Israeliete en Jode. Paulus sê: “Ek is ‘n Jood (Hand. 22:3)... Ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham (Rom. 11:1)... ‘n Hebreër uit die Hebreërs” (Fil. 3:5).

Nie een van hierdie name is op die Nuwe Testamentiese kerk oordraagbaar nie, daarom kan ons nie eers in ‘n geestelike sin onsself “Israel” noem nie. Die “ware Israel” of die “geestelike Israel” dui op die geredde Israeliete wie se harte ook besny is. Net hulle is in die ware, geestelike sin van die woord “Israeliete” of “Jode” wat kwalifiseer om as lede van God se volk beskryf te kan word. Die Here het geen behae in die ongeredde lede van dié volk nie, daarom rus sy oordele oor hulle (1 Kor. 10:5). Om dié rede sê Paulus: “Want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie” (Rom. 9:6). Hoe word hierdie onderskeid getref? Geestelik: “Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dit is besnydenis wat in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God” (Rom. 2:28-29).

Daar is in Israel, soos in alle ander volke, net ‘n klein minderheid ware kinders van God wat op die smal weg is, terwyl die meerderheid geestelik dood en kinders van die duiwel is (Joh. 8:39-44). Hierdie meerderheid dra weens hulle afkoms nog steeds hulle volksnaam, maar dit het vir hulle geen geestelike betekenis nie. Uiteindelik sal dit net die gelowige oorblyfsel in Israel wees wat waardig sal wees om die Here se beloftes aan hierdie volk te beërf (vgl. Rom. 9:27). Die beloftes aan Israel is binne die verband van verskeie verbonde tussen die Here en hulle bepaal.

Nooit in die totale geskiedenis van Israel was daar ooit die geringste twyfel oor die geldigheid van die beloftes wat die Here aan die vaders van hierdie volk gemaak het nie. God self is die waarborg van die Abrahamitiese (Gen. 15:18), Kanaänitiese (Num. 33:51–34:15) en Davidiese verbonde (2 Sam. 7:12-16; Ps. 89:3-4,34-37) wat die ewige toesegging van die land Israel, asook die permanensie van die troon van Dawid, verseker. Israel se verstrooiing uit die land as gevolg van ongeloof kan nie hierdie verbonde vernietig nie.

Selfs al is Israel ontrou, bly God getrou en sal hulle na hul land terugbring om ‘n oorblyfsel te red. ‘n Belofte hieroor is lank voor die Babiloniese ballingskap en die internasionale verstrooiing van die volk gemaak: “Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die HERE hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die Here” (Lev. 26:44-45).

Die feit dat Israel hulle beloofde Messias verwerp het, het tot ‘n baie groot krisis in hulle volkslewe gelei. Jesus het vir die Jode gesê dat hulle huis (Jerusalem) verwoes sou word omdat hulle Hom as Messias en Koning verwerp het (Matt. 23:37-38), en dat Hy as gevolg daarvan sou weggaan totdat hulle Hom by ‘n toekomstige geleentheid as die beloofde Messias sou aanvaar: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).

Ná die Here Jesus se verwerping deur Israel, asook sy kruisiging en opstanding uit die dode, het Hy aan sy dissipels opdrag gegee om die evangelie aan die ganse mensdom op aarde te verkondig (Mark. 16:15). Dit is die tye van die nasies (m.a.w. nie die tyd van Israel nie) waarin die nie-Joodse volke ‘n kans sou kry om gered te word. Individuele Jode word ook in hierdie tyd gered en word sodoende deel van die kerk, maar Israel sou as volk tydens die hele kerkbedeling in ‘n verworpe toestand bly: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Hieruit is dit duidelik dat daar ‘n eindtydse herstelfase vir Jerusalem en sy inwoners sál wees, sodat die laaste jaarweek van hulle heilsgeskiedenis voor die koms van die Messias kan aanbreek. Groot benoudheid sal dan oor die ongeredde volk kom.

Israel se geestelike blindheid bestaan vir die hele duur van die kerkbedeling voort, en hulle sal eers as volk gered word wanneer die Messias weer kom: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene [letterlik die etniese groepe, of nie-Joodse volke] ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).

Daar is talle Bybelse profesieë wat op Israel se eindtydse herstel dui (Jes. 11:11-12; Eseg. 36:24-28), asook die feit dat hierdie volk ‘n baie belangrike rolspeler in wêreldgebeure nét voor en ná die koms van die Messias sal wees (Jes. 60:10-15). Die hele oorblyfsel van Israel sal tydens die koms van die Messias gered word en Hom daarna eendragtig en van harte dien (Jer. 31:34). Omdat Israel as ‘n volk bestaande uit sterflike mense in die vrederyk moet voortbestaan, is dit belangrik dat ‘n oorblyfsel van hulle in die komende verdrukking van die vervolging en bloedvergieting deur die valse messias bewaar sal word.

Die kerkdispensasie

Die formele begin van die kerkdispensasie was tydens die uitstorting van die Heilige Gees. Nadat die Here Jesus deur Israel verwerp en oorgelewer is om gekruisig te word, en Hy drie dae ná die kruisiging uit die graf opgestaan het, het die dissipels net voor sy hemelvaart opdrag gekry om die evangelie na alle nasies uit te dra (Matt. 28:19). Hulle is egter beveel om op die uitstorting van die Heilige Gees te wag voordat hulle met hierdie taak begin (Luk. 24:46-49). Hierna het Jode én nie-Jode lede van die liggaam van Christus onder alle nasies geword (Rom. 1:16), naamlik die gemeente, en sal die bedeling van die gemeente van Christus voortduur totdat Hy hulle kom haal (Joh. 14:2-3). Die kerkbedeling verloop dus tussen Pinksterdag en die wegraping.

Die einde van die kerkbedeling word nie deur groot en dramatiese tekens aangekondig nie, want die Here Jesus sê dat sy koms vir sy dissipels soos ‘n dief in die nag sal wees, op ‘n uur wanneer niemand dit verwag nie (Matt. 25:13; Luk. 21:35). In die lig hiervan moet ons waak en bid met die oog daarop om altyd waardige en heilige lewens te kan lei (Mark. 13:33-37; Luk. 21:36; 1 Thess. 3:13; 2 Pet. 3:11). Daar is wél sekere tekens wat aandui dat die geheime koms van die Bruidegom naby is. Die belangrikste hiervan is die bot van die vyeboom, wat op die herstel van die volk Israel in hulle eie land dui (Luk. 21:29-30; die vyeboom is ‘n simbool van Israel – Hos. 9:10). Die volk se herstel val saam met die progressiewe beëindiging van die eeue-oue vertrapping van Jerusalem deur die nie-Joodse nasies (Luk. 21:24). ‘n Ander teken waardeur ons aangespreek word, is die toenemende geestelike verval onder gelowiges in die eindtyd (1 Tim. 4:1; 2 Tim. 3:1-5; 4:3), asook die toenemende morele verdorwenheid in die wêreld, soos in die tyd van Noag en Lot (Luk. 17:26-36). Noag se tydgenote was uitermate boos en het die wêreld vol geweld gemaak (Gen. 6:5,13). In Lot se tyd was aggressiewe homoseksualisme aan die orde van die dag (Gen. 19:4-5). In die eindtyd, wanneer hierdie sondes weer eens hoogty sal vier, sal die Here die onbekeerlike sondaars op die aarde oordeel nadat Hy die gelowiges weggeneem het.

Die dramatiese, apokaliptiese tekens wat in die profetiese rede én in Openbaring beskryf word, kondig die sigbare, openbare koms van Christus aan die einde van die verdrukking aan, wanneer elke oog Hom sal sien. Die ernstige natuurrampe, pessiektes, hongersnode en oorloë sal wél vroeër, aan die einde van die kerkbedeling, begin eskaleer, maar nie naastenby tot op die vlakke waarin dit ná die wegraping tydens die bewind van die Antichris en die uitstorting van God se oordele oor die wêreld sal voorkom nie.

Wanneer die gemeente, wat die tempel van die Heilige Gees is, skielik weggeneem is, sal die lig van die wêreld verdwyn en sal daar groot geestelike duisternis neerdaal. Dan sal die valse messias onverhinderd geopenbaar word en ‘n verbond met Israel en die misleide nasies sluit. Paulus sê: “...net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:7-8). Die kerkbedeling word dus deur die wegraping beëindig, en direk daarna deur die openbaring van die valse messias en die aanbreek van sy sewe jaar lange bewind op aarde gevolg. Aan die einde van sy relatief kort skrikbewind sal die ware Messias kom en hierdie misleier deur ‘n woord uit sy mond verdelg (Op. 19:19-21).

Gedurende die verdrukking van sewe jaar sal daar baie mense op aarde gered word, maar dit sal nie deel van die kerkdispensasie wees nie. Hulle sal almal as martelare sterf (Op. 6:9-11), omdat hulle nie die volgende waarborg van die kerkbedeling sal geniet nie: “...op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt. 16:18). Wat die komende verdrukking van sewe jaar onder die bewind van die Antichris betref, lees ons egter: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Die Antichris gaan nie mag oor die ware kerk kry om dit te kan vernietig nie – net oor die geestelik verblinde Israel, die ongeredde nasies en die Christene wat eers ná die kerkbedeling gered word.

Profetiese perspektief in die Evangelies

Die verskille tussen Israel en die kerk blyk baie duidelik uit die besondere perspektiewe van die Evangelies volgens Mattheus en Lukas. Dit is opvallend dat Mattheus ‘n tipies Joodse scenario aan ons voorhou, daarom moet ons nie die fout begaan om die profetiese toekoms van die kerk in dié boek te probeer sien nie. Hierdie Evangelie is hoofsaaklik onder die Jode versprei. Lukas volg ‘n veel breër benadering waaruit die rol van die kerk en die nie-Joodse nasies baie duideliker blyk.

Die Evangelie volgens Mattheus is uit ‘n Joodse oogpunt geskryf, en dit is opvallend dat die eerste plek in die koninkryk van God dikwels aan Jode toegesê word. Uit die eerste sendingopdrag aan die twaalf apostels, wat in daardie stadium net in Judea, Samaria en Galilea gewerk het, blyk hierdie voorkeurposisie duidelik. In die tyd voor die nasionale verwerping van Jesus deur die Jode, is die opdrag aan die dissipels gegee om nie na die Samaritane (heidene) met die evangelie te gaan nie, maar net na “die verlore skape van die huis van Israel” (10:5-6). Die Here Jesus het in noue aansluiting hierby gesê dat Hy as Messias net na die verlore skape van die huis van Israel gestuur is, m.a.w. na die ongeredde Joodse volk (15:24; vgl. ook 19:28).

In Mattheus word ‘n positiewe standpunt ten opsigte van die wet gestel en die toepaslikheid daarvan as goddelike riglyne vir geestelike en morele norme duidelik bevestig (5:18-19). Jesus Christus sê dat Hy nie gekom het om die wet te ontbind nie, maar te vervul (5:17). Die wet is in die Messias se Nuwe Testamentiese wet van liefde teenoor God en liefde teenoor ons naaste vervul (22:36-40). “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (22:40; vgl. ook Rom. 13:8-10).

Die skrywer van hierdie Evangelie is sterk daarop ingestel om die verband tussen die Ou- en Nuwe Testament aan te toon, en veral die wyse te beklemtoon waarop die oue in die nuwe vervul is. Om hierdie rede verwys Mattheus dikwels na die Ou Testament deur onder meer 43 woordelikse aanhalings, benewens nog 22 sinspelings, om sodoende aan die ongelowige en skeptiese volk van Israel konkrete bewyse te lewer dat die lewe en werk van Jesus, die Seun van Dawid en ook van sy hemelse Vader, in die fynste besonderhede die vervulling van Ou Testamentiese profesieë is.

Dit is die rede vir die besondere aanbieding van feite oor die maagdelike geboorte en naamgewing van Jesus, sy tydelike verblyf in Egipte en vestiging daarna in Nasaret, die feit dat Hy siekes gesond gemaak, in gelykenisse gespreek, Jerusalem op ‘n esel binnegery en uiteindelik deur sy dissipels verlaat is, “sodat vervul kon word wat God deur die profete gespreek het” (1:22; 2:15,23; 8:17; 12:17; 13:35; 21:4; 26:54). Ander belangrike besonderhede soos sy geboorte in Betlehem, die ongeloof van die Joodse volk, die aanstoot wat mense aan Hom sou neem en die feit dat Hy vir 30 silwerstukke verkoop sou word, word telkens aan Ou Testamentiese profesieë gekoppel (2:5; 13:14-15; 26:31; 27:9). Hierdie aanhalings van bewysplase uit die Ou Testament is nie naastenby so prominent in die ander Evangelies nie.

As ‘n oorwegend Judaïstiese werk hou Mattheus vir Jesus baie duidelik as Messias van die Jode voor. Sy geslagsregister word aangehaal tot by Abraham wat die eerste Hebreër was, en nie tot by Adam soos wat Lukas dit doen nie. Sterk klem word op sy afkoms van Dawid gelê (1:1,20; 9:27; 12:23; 15:22; 20:30-31; 21:9,15; 22:42-45). Verder dien Jesus se geslagsregister as afdoende bewys daarvan dat Hy op die troon van Dawid aanspraak kan maak (kyk ook 2:2). In elk geval vervul Jesus as gevolg van sy wonderbaarlike verwekking deur die Heilige Gees in die maagd Maria die meer verhewe Ou Testamentiese verwagtings met betrekking tot die Messias, deurdat dit Hom in ‘n baie unieke sin die Seun van sy hemelse Vader maak. Omdat Hy God die Seun is (11:27) kan Hy regmatiglik die titel Emmanuel (God met ons) opeis (1:23; vgl. Jes. 7:14). Hy is die bonatuurlike Seun van die mens wie se koms baie duidelik deur die profeet Daniël voorspel is (Dan. 7:13-14), en wat in die tyd van die einde (Dan. 12:4) op sy heerlike troon sal sit om die nasies te oordeel (16:27; 24:30; 25:31; 26:64 e.v.).

Die Messias se koninkryk is ‘n baie algemene onderwerp in dié Evangelie. God die Vader vertrou die heerskappy oor sy koninkryk aan sy Seun, die Messias, toe wat met sy wederkoms op die troon sal sit (25:34,40). Dit word baie duidelik as ‘n eskatologiese koninkryk beskryf wat in die eindtyd geopenbaar sal word wanneer die Messias met groot krag en heerlikheid op die wolke van die hemel sal kom (24:30).

Ooreenkomstig die algemene benadering in die Evangelie van Mattheus word die profesieë só bespreek dat hulle primêr op die toekoms van die ongeredde Joodse volk betrekking het. Die tydsraamwerk wat vir hierdie profesieë gebruik word, is twee volwasse geslagte: die eerste is die geslag wat op die verwerping van Jesus as Messias gevolg het (23:34-36), en die ander een die geslag wat direk voor sy wederkoms sal verloop (24:32-34).

Die eerste geslag het begin met Jerusalem (die regeringsetel en kern van die Joodse volk) wat vir Jesus as Messias verwerp het, en hierdie geslag het met die vernietiging van Jerusalem geëindig (23:37-38). Profesieë wat in die eerste geslag vervul is, is die vernietiging van Jerusalem en die tempel deur Israel se vyande – tot só ‘n mate dat nie een klip op die ander gebly het wat nie afgebreek is nie (23:37; 24:1-2). Aan die einde van hierdie geslag sou Jerusalem verlate en sy inwoners óf dood óf verstrooid wees (23:38). Hierdie profesieë is letterlik in 70 n.C. met die beleg en inname van Jerusalem deur ‘n Romeinse mag vervul. Dit het byna 40 jaar ná die begin van die kerkbedeling gebeur, en dien as ‘n bewys dat God steeds met Israel as ‘n afsonderlike volk handel – hulle is nie deur die kerk vervang nie. Hoewel geredde Jode in hierdie bedeling lede van die kerk van Christus word (Rom. 1:16), verander dit hoegenaamd nie aan die feit van Israel se unieke profetiese toekoms as volk, in die land wat die Here nét aan hulle gegee het nie.

Die laaste geslag sou met die herstel van die volk Israel, en meer spesifiek die herstel van Jerusalem as hulle hoofstad, begin. Die geestelike en politieke leiers in hierdie stad het Jesus tydens sy eerste koms verwerp, maar hulle opvolgers in dieselfde stad sal Hom tydens sy tweede koms aanvaar. Jerusalem het in 1980 die administratiewe hoofstad van die herstelde Israel geword toe die regeringsetel van Tel Aviv af hierheen verskuif is. Dit lui die laaste volwasse geslag voor die koms van die Messias in. Jerusalem en sy inwoners, verwysend na die leiers van Israel en hulle onmiddellike gevolg, sal in die nabye toekoms weer die geleentheid kry om ‘n besluit oor Jesus se Messiasskap en Koningskap te neem (23:39). Hulle word reeds op hierdie ontmoeting voorberei, want Joodse rabbi’s haal elke jaar tydens die loofhuttefees Psalm 118:26 in ‘n gebed aan, wat verwys na die seëngroet vir die Een wat in die Naam van die Here sal kom, sonder om te besef dat dit in werklikheid op die Here Jesus as Messias betrekking het.

Voor die koms van die Messias wag daar egter ‘n tyd van groot benoudheid vir Israel. Jesus het aan die ongelowige Jode gesê dat hulle voor sy wederkoms deur die groot verdrukking sou gaan (24:21). Hierdie tyd van verdrukking sal deur die opkoms van valse christusse (messiasse) en valse profete gekenmerk word (24:4-5,11,24) wanneer ‘n valse messias na hulle toe sal kom en voorgee dat hy die ware Messias is (24:23-27). Dit sal ook ‘n tyd van oorloë, hongersnode, pessiektes, aardbewings en die hewige vervolging van Israel wees (24:6-7,9).

Mattheus wy ‘n lang gedeelte aan die eindtydse vlug van die Jode uit Judéa na die berge (24:15-22). Hy koppel die vertrekpunt van hierdie gebeurtenis duidelik aan die ontheiliging van die tempel in Jerusalem deur die valse messias: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (24:15-16). Daniël (9:27; kyk ook 11:31-39) sê dat hierdie gebeurtenis in die middel van ‘n jaarweek (‘n periode van 7 jaar) sal plaasvind. Die valse messias sal dus ‘n sewe jaar lange verbond met Israel sluit, maar in die middel van hierdie tyd sal hy die tempel ontheilig deur homself daarin tot God te verklaar en ‘n afskuwelike beeld van homself in die Allerheiligste te laat oprig.

Die Jode wat sal weier om die valse messias in sy hoedanigheid as selfverklaarde God te aanbid, sal vinnig voor sy oprukkende leërs moet vlug. Volgens Jesus moet hulle bid dat hulle vlug nie in die winter of op die Sabbat sal wees nie (hulle sal dus ortodokse Jode wees), “want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af… nie gewees het nie” (24:20-21). Die Joodse sabbatswette geld slegs in Israel, en op dié dag mag ‘n persoon net omtrent ‘n kilometer ver loop – die kort afstand van Jerusalem af deur die Kidronvallei na die Olyfberg toe (Hand. 1:12). In dié geval sal die valse messias se leërs hulle maklik inhaal en doodmaak. Hulle moet ook bid dat hulle reis nie deur winterkoue of deur klein kindertjies vertraag word nie, want hulle sal te voet uit Judéa na die berge moet vlug (24:19-20).

Die Here sal hierdie vlug toelaat om die Jode van totale uitwissing deur die valse messias te red. Die voortvlugtendes sal steeds geweldige benoudheid en swaarkry ervaar omdat hulle in die “tyd van benoudheid vir Jakob” sal wees (Jer. 30:7). Aan die einde van hierdie jaarweek van verdrukking sal die Messias tydens sy wederkoms na Jerusalem terugkeer (24:29-30). Volgens Sagaria 14:4 weet die Jode dat die Messias in Jerusalem sy verskyning sal maak. Die oorlewende Jode sal Hom dan van harte in die Naam van die Here verwelkom (23:39).

Die Evangelie volgens Lukas wat aan Theofilus, ‘n hooggeplaaste amptenaar in Rome, opgedra en daarna ook in Antiochië versprei is, is hoofsaaklik vir ‘n nie-Joodse leserskring bedoel. Vir Lukas is die strekking van die evangelieboodskap opvallend meer universeel omdat dit vir alle mense ongeag hulle volksverband, klas of stand bedoel is. In hierdie wye perspektief misken hy nie die Joodse konnotasies van die evangelie nie, maar trek die lyne aansienlik breër om ook die wêreldwye doelstellings van die koninkryk van die hemel en die boodskap van verlossing te beklemtoon.

So byvoorbeeld verstrek Lukas nie slegs ‘n Joodse geslagsregister vir Jesus, soos wat Mattheus doen nie, maar hy voer Jesus se afkoms terug tot by Adam. Christus spreek dus alle nasate van Adam aan – nie slegs dié van Abraham, Isak en Jakob nie – omdat Hy vir ons almal mens geword het “om te soek en te red wat verlore was” (19:10). Sy verlossingswerk is vir die ganse mensdom bedoel.

Hierdie benadering blyk duidelik uit die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (10:25-37), asook uit die teregwysings aan die Jode vir hulle onverdraagsaamheid teenoor die Samaritane (9:51-56). In Lukas 17:11-19 word daarop gewys dat ná die genesing van die tien melaatses slegs een, ‘n Samaritaan, omgedraai het om God te verheerlik. Dit is ‘n aanklag teen Israel vir hulle ondankbaarheid. In Lukas 10:1-24 word 70 dissipels uitgestuur om die evangelie na Jode én heidene in die omliggende dorpe uit te dra.

In sy profetiese oorsig bespreek Lukas nie net die lotgevalle van die ongelowige Joodse volk nie, maar ook van die Messiaanse gelowiges, die nie-Joodse Christene en die nasies. Die Messiaanse gelowiges se beloofde ontvlugting voor die vernietiging van Jerusalem in die eerste geslag, word deur Lukas beskryf (21:20-22) maar nie deur Mattheus nie. Lukas gaan dan voort om “die tye van die nasies” te noem (21:24) wat vanaf die eerste geslag tot in die laaste geslag van die huidige dispensasie strek. Mattheus noem nie hierdie lang tydperk nie, omdat hy hom net met die heilsgeskiedenis van Israel bemoei (dieselfde benadering word ook deur ander Joodse profete gevolg, bv. Daniël, wat geen aanduiding van die lang tydsgaping van nie-Joodse geskiedenis tussen die 69ste en 70ste jaarweke in sy profesie oor Israel gee nie – Dan. 9:24-27).

Die herstel van Jerusalem sou die einde van die tye van die nasies inlui omdat “Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (21:24). Lukas gaan hierna voort om ‘n tyd van wêreldwye benoudheid onder die nasies te beskryf, wat op die wederkoms van Christus sal uitloop (21:25-27). Die groot verdrukking word nie in enige detail deur Lukas beskryf nie – hy noem ook nie die vlug van die Jode ná die ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking, soos wat Mattheus met die beskrywing van verskeie besonderhede doen nie. Lukas gee net ‘n kort opsomming van die groot benoudheid en kosmiese tekens van die verdrukking, en bied dan ‘n sekere manier aan om dit te ontvlug: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (21:36). Mattheus maak nie van die belofte van ontvlugting voor die verdrukking melding nie, omdat die Joodse volk as gevolg van hulle geestelike blindheid deur die tyd van die benoudheid vir Jakob sal moet gaan.

Uit die verskillende perspektiewe van Lukas en Mattheus is dit baie duidelik dat die belofte van ontvlugting voor die verdrukking net aan Jesus se dissipels gemaak word (21:36). Dit is verder ook duidelik dat sy dissipels in die eindtyd hoofsaaklik nie-Jode sal wees (24:47). Hulle word aangemoedig om waaksaam en biddend te wees sodat hulle waardig sal wees om die tyd van oordele te ontvlug en in die geseënde teenwoordigheid van die Seun van die mens te wees wanneer die uur van duisternis op aarde aanbreek.

Deur ‘n ontsnappingsroete aan eerste geslag- én laaste geslag-gelowiges te bied (21:20-21,36), bevestig die Here Jesus die feit dat die gelowiges nie saam met die ongelowiges geoordeel word nie. Soos in die dae van Noag en Lot, moet die gelowiges eers uit die rampgebied van goddelike oordele verwyder word voordat die toorn van God oor die ongelowiges uitgestort word.

‘n Finale vergelyking: ‘n Verdere opvallende kenmerk van die aanbieding van die profetiese boodskap in Mattheus is dat Jerusalem (waarvan die inwoners die kern van die ongelowige Joodse volk verteenwoordig) in die eerste persoon aangespreek word met ‘n boodskap wat direk op die Jode betrekking het. Terwyl Hy eerste geslag-profesieë uitgespreek het, het die Here Jesus gesê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37-38). Dieselfde benadering word in laaste geslag-profesieë gevolg: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting sien [die valse messias wat die tempel ontheilig]… dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug… As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! [die Messias] of: Daar! – moet dit nie glo nie” (Matt. 24:15-16,23). Gedurende die daaropvolgende koms van die Seun van die mens sal al die stamme (volke) van die aarde rou bedryf (Matt. 24:29-30). Op dié wyse word die Jode meegedeel dat nie net húlle rou sal bedryf oor Hom vir wie hulle deurboor het nie (Sag. 12:10), maar dat die oorblyfsel van die Christus-verwerpende nasies ook dieselfde sal doen. Die primêre boodskap in hierdie profesieë is egter aan Israel gerig.

In Lukas word die profetiese boodskap nie aan die Joodse volk in die eerste persoon gerig nie, maar aan die dissipels van Jesus (ongeag of hulle Jode of nie-Jode is). In verband met die eerste geslag-vernietiging van Jerusalem sê die Here Jesus aan sy dissipels: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Luk. 21:20). Lukas doen alle verwysings na Jerusalem en sy inwoners in die derde persoon. Selfs die nie-Joodse nasies, wat uitdruklik in die profetiese scenario ingesluit word, word in die derde persoon genoem terwyl Jesus inligting oor hulle aan sy dissipels meedeel. Aan die Messiaanse (Joodse) gelowiges word gesê dat hulle vervolging deur die ortodokse Jode reeds voor die verdrukking sal begin: “Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse” (Luk. 21:12). Wanneer Lukas die tekens van die verdrukking noem, sonder hy nie vir Israel uit nie, maar verwys na alle nasies wat daardeur geraak sal word: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Luk. 21:25-26). Aan die ware dissipels van Jesus wat waak en bid, word die versekering egter in die eerste persoon gegee dat “julle… al hierdie dinge wat kom, [sal] ontvlug en voor die Seun van die mens staan” (Luk. 21:36). Dit is beslis nie ‘n boodskap aan Israel nie, maar aan die eindtydse dissipels van Christus wat vir sy skielike koms gereed moet maak.

In Lukas word die eindtydse scenario duidelik aan die beëindiging van die vertrapping van Jerusalem deur die nie-Joodse nasies verbind (21:24). Dit dien hier vermeld te word dat Bybelse Jerusalem (die Ou Stad, wat ook as die Stad van Dawid bekend staan) in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 fisies deur Israel herower is, terwyl die politieke herstel van die stad tot sy eertydse status as hoofstad van Israel eers in Augustus 1980 plaasgevind het. Dit het die laaste volwasse geslag voor die wederkoms van Christus ingelui (Matt. 24:34; Luk. 21:32).

In die lig van die profetiese perspektiewe in Mattheus en Lukas se Evangelies, is die begin- en eindpunte van die twee kritieke geslagte in die huidige bedeling tussen die eerste en tweede koms van Christus die volgende:

Die eerste geslag: Hierdie geslag het met die verwerping en kruisiging van Jesus as Israel se Messias-Koning begin, en is deur die beleg en vernietiging van Jerusalem beëindig. Baie Jode is in die aanval deur ‘n groot Romeinse mag dood, terwyl die oorlewende inwoners van Jerusalem krygsgevange geneem is en na baie nasies verstrooid geraak het. Gedurende die eerste geslag het Israel en die kerk saam bestaan, maar Israel is weens die verwerping van die Messias as instrument vir wêreldevangelisasie uitgefaseer, terwyl die kerk van Christus onder alle nasies ingefaseer is om hierdie opdrag uit te voer.

Die tye van die nasies: Die lang tydperk tussen die eerste en laaste geslag word as “die tye van die nasies” beskryf (21:24). In hierdie tyd kry die ganse nie-Joodse wêreld (insluitende die verstrooide Jode) die geleentheid om lede van die koninkryk van God te word deur vir Jesus as hulle Messias en Verlosser aan te neem en weergebore te word (Matt. 28:18-20; Luk.24:45-49).

Die laaste geslag: Hierdie geslag het met die staatkundige herstel van Jerusalem deur Israel in 1980 begin, toe die vertrapping van die stad beëindig is. Gedurende hierdie transisionele geslag bestaan Israel en die kerk aanvanklik saam, maar voor die finale sewe jaar van hierdie geslag (die 70ste jaarweek van Daniël) sal die kerk by wyse van die wegraping uitgefaseer word (Luk. 21:36) terwyl Israel verder as die herstelde volk van God ingefaseer sal word. Die eerste fase van hulle geestelike herstel sal die redding van 144 000 Jode vroeg in die verdrukking wees, terwyl die hele oorblyfsel van die volk aan die einde van die verdrukking gered sal word wanneer die Messias na die Olyfberg in Jerusalem terugkeer (Sag. 14:4-5). Op daardie dag sal die oorblyfsel van Israel deur die bloed van die Lam gereinig word (Sag. 12:10; 13:1-2).

Wegraping voor die Antichris se verskyning

Mattheus waarsku Israel teen die koms van ‘n valse messias en die aanbreek van die verdrukking, terwyl Lukas die nasies teen dieselfde gevare waarsku, maar aan die dissipels van die Here Jesus ‘n duidelike belofte van ontvlugting bied. Die Christene se teenwoordigheid hier verhinder juis die uitstorting van goddelike toorn oor die aarde, asook die openbaring van die Antichris en die valse profeet.

Oor die openbaring van die Antichris en die begin van sy misleiding en skrikbewind, sê Paulus: “En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en met die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:6-8). “...hy wat hom teëhou” is die liggaam van Christus, wat die gemeente van die weergeborenes is. Die Gees van die waarheid wat in ons is, staan die gees van die dwaling teë wat in die kinders van die ongeregtigheid werk (1 Joh. 4:1-6). Hierdie teëhouding verklaar die feit waarom die koninkryk van die duisternis en sy groot eindtydse leier, die Antichris, nie beheer oor die wêreld kan oorneem solank as wat die koninkryk van God deur die kerk van Christus nog hier gevestig is nie. In hulle verborge vorm bestaan die twee koninkryke wél saam op aarde, soos koring en onkruid wat in dieselfde land groei, maar daar kan nie tegelyk twee opponerende, sigbaar geopenbaarde koninkryke op aarde bestaan nie. Die ware kerk móét eers uit die weg geruim word voordat die Antichris geopenbaar kan word en die wêreld oorneem. So ook móét die Antichris en sy magte aan die einde van die sewe jaar eers verdelg  en Satan gebind word voordat Jesus Christus se koninkryk sigbaar op aarde geopenbaar kan word.

Dit is ondenkbaar en in stryd met Bybelse beginsels dat die Antichris geopenbaar kan word en ‘n wêreldwye magsposisie verkry terwyl die kinders van die Here, as die tempel van die Heilige Gees, nog hier is. Dit is een van die belangrike redes waarom die wegraping nie in die middel van die verdrukking kan plaasvind nie, want dit sou beteken dat die liggaam van Christus, as die teëhouer van die Antichris, nie weggeneem hoef te word voordat hy verskyn nie. Dit is onbybels! Daar is geen ruimte vir die teorie dat die wegraping in die middel van die verdrukking sal plaasvind nie. In die middel van die sewe jaar lange verdrukking sal die Antichris sy verbond met Israel verbreek, die tempel ontheilig en homself tot God verklaar (Dan. 9:27; 11:36-37; Matt. 24:15-21; 2 Thess. 2:4). Direk hierna sal dit nie die ontvlugting van die Christene wees nie, maar die vlug van Israel na die woestyn (Matt. 24:16; Op. 12:14). Ons moenie hierdie twee gebeurtenisse met mekaar verwar nie.

Dwalings en onskriftuurlike verwagtings lei altyd na ‘n skewe perspektief en verkeerde prioriteite. Deur die beskouing van ‘n wegraping in die middel van die verdrukking word die Christus-verwagting van gelowiges deur ‘n Antichris-verwagting vervang. Hulle prioriteite word dan onmiddellik as gevolg hiervan anders bepaal. In plaas daarvan om heiligmaking en diensbaarheid in afwagting op die spoedige koms van die hemelse Bruidegom as hoofdoelwit na te streef, begin hulle planne te maak oor hoe om in die verdrukking te oorleef en uit die invloedsfeer en strukture van die Antichris weg te bly. Sulke aksies is onvanpas omdat die perspektief en visie waaruit dit voortspruit, nie die belofte van die ontvlugting uit “al hierdie dinge” in ag neem nie. Ons opdrag is om vir die Here Jesus te wag en met sy werke besig te bly totdat Hy ons kom haal. Indien ons diensbaar bly en ook waak en bid, sal ons nie hier wees wanneer die Antichris geopenbaar word nie.

Mense wat dink dat hulle maar eers vir die Antichris kan wag en dan 3½ jaar aftel totdat die Here kom, kyk ‘n baie kardinale aspek van die profesieë mis, naamlik die verrassingselement in die hemelse Bruidegom se koms. Dit kan nie presies bereken word nie, want ons het net algemene tekens wat die nabyheid daarvan aantoon. Om gebeurlikheidsbeplanning vir ‘n tyd van groot rampe, oorloë en vervolging te doen, in plaas van voorbereidings om dit te ontvlug, kan tot ‘n groot ontnugtering lei.

Uit die oogpunt van omstandighede op aarde sal die wegraping vir Christene ‘n ontvlugting uit die dreigende oordele van God tydens die bewind van die Antichris wees. Die finale aanloop na die sewe jaar lange verdrukking sal ‘n donker tyd van geweldige geestelike misleiding en valse eenheid in die wêreld wees. Die evangeliese Christene sal as onbybels en liefdeloos bestempel en geminag word. Hulle sal as doemprofete beskou word omdat hulle die naderende oordele van God verkondig, wat in die verdrukking oor die aarde sal kom. Hulle sal ook as rebelle gebrandmerk word omdat hulle nie die hervormings van die nuwe wêreldorde wil aanvaar nie.

Namate die dag vir die openbaring van die Antichris nader kom, sal die ware gelowiges wat vir die koms van die Bruidegom gereed maak, aan nóg groter druk, bespotting en teologiese diskreditering deur die afvallige aanhangers van die ekumeniese beweging en die nuwe wêreldorde onderwerp word. Indien hulle egter getrou bly, sal die Here Jesus hulle deur die wegraping kom haal en sodoende die verdrukking op aarde laat ontvlug. Hulle sal die hele sewe jaar van die Antichris se bewind ontvlug, waarvan die eerste 3½ jaar uit ‘n valse vrede en die grootskaalse geestelike onderdrukking van die waarheid sal bestaan, en die laaste 3½ jaar uit openlike geestelike dwingelandy weens die verpligte aanbidding van die Antichris as God, asook ‘n fisiese verdrukking en natuurrampe soos wat daar nog nooit op aarde was nie.

Die aanhangers van die nuwe wêreldorde se valse vrede en eenheid sal nie die oordele van die verdrukking ontvlug nie: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3).

In Mattheus word die wegraping as ‘n teken aan die ongelowige Israel genoem, sodat dié wat agterbly moet weet dat ‘n tyd van groot oordele op hulle wag. Soos in die tyd van Noag, sal die eindtydse Jode nie hierdie ingryping deur die Here aanvaar en verstaan voordat dit vir hulle té laat is om deel van die ontvlugting te wees nie: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander verlaat...” (Matt. 24:37-40).

Wanneer die Messiaanse Jode saam met al die weergebore Christene verdwyn, sal die oordele van God uitgestort word oor almal wat agtergebly het. Selfs dán sal nie almal van hulle verstaan wat werklik aan die gang is nie en verkeerdelik die valse messias aanhang. Hulle sal sy vredespraatjies en geestelike misleiding ten prooi val en meen dat hy die ware Messias is.

Lukas sê dat die ware gelowiges die belofte van ontvlugting uit die eindtydse oordele ter harte moet neem en waak en bid sodat hulle waardig is om, soos Noag en Lot, die oordele te ontvlug (Luk. 17:26-36; 21:36). Ten opsigte van dié wat agterbly, het die Here Jesus gesê: “Waar die liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom” (Luk. 17:37). Dit is presies die situasie wat aan die einde van die groot verdrukking sal heers wanneer ‘n menigte mense gedood sal word met die swaard wat uit die mond van die hemelse Regter gaan, “en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:21).

In die lig van hierdie ernstige feite is dit belangrik om te weet dat die sewe jaar van die Antichris se regering wat van Openbaring 6 tot 19 beskryf word, nie deel van die kerkdispensasie is nie. Hierdie tyd van verdrukking sal net oor hulle kom wat agtergebly het omdat hulle nie vir die geheime koms van die hemelse Bruidegom gereed was nie. Om vir die ontvlugting gereed te wees, moet ons waarlik aan die Messias behoort, en hom met onverdeelde harte liefhê en dien. Die Here stel ons deur sy Heilige Gees hiertoe in staat.

 

 

5. Openbaring in die Lig van Daniël se 70ste Jaarweek

Gegewe die profetiese belangrikheid van die volk Israel vir die regte verstaan van Openbaring, kyk ons nou in meer besonderhede na die dispensasionele posisie van Israel soos wat dit in Daniël 9:24-27 beskryf word. Dit is teen hierdie agtergrond baie duidelik waarom al die gebeure in die verdrukking, soos in Openbaring 6 tot 19 beskryf word, binne ‘n tydsraamwerk van sewe jaar sal afspeel. Israel se heilsgeskiedenis vanaf die einde van die Babiloniese ballingskap tot met die aanbreek van die Messiasryk, word in Daniël 9:24-27 binne die raamwerk van 70 jaarweke geplaas. In hierdie tydperk sal twee messiasse ‘n prominente rol vervul – die ware Messias en die valse messias:

“Sewentig sewetalle is oor jou volk [Israel] en jou heilige stad [Jerusalem] bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors [die Messias] is sewe sewetalle; en 62 sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die 62 sewetalle [m.a.w. ná 7 plus 62 sewetalle] sal ‘n Gesalfde [die Messias] uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom [die valse messias], sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy [die valse messias] sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week [ná 3½ jaar] sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word” (Dan. 9:24-27).

Die 70 jaarweke staan met die volgende gebeurtenisse in verband:

  • Aan die begin van die 70 jaarweke, in 445 v.C., is opdrag deur koning Artasásta aan die Jode in die ballingskap gegee om Jerusalem en die tempel te gaan herbou (Neh. 2:1).
  • Die aanvanklike bouwerk is ná 7 jaarweke voltooi.
  • In die daaropvolgende 62 jaarweke is Jerusalem in tye van benoudheid verder uitgebrei en bewoon.
  • Aan die einde van 69 (7+62) jaarweke, in April 32 n.C., is die Messias in Jerusalem verwerp en gekruisig.
  • Omdat Israel die Messias verwerp het, is God se heilsplan met hulle tydelik ter syde geskuif en is die evangelie na die ganse nie-Joodse wêreld uitgedra. In hierdie tyd was Israel in ‘n internasionale ballingskap onder die nasies (Luk. 21:24).
  • Die eindtydse herstel van Israel na hulle land het formeel in 1948 begin, terwyl die verklaring van Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel in 1980 plaasgevind het.
  • Die toneel is nou gereed vir die begin van die 70ste jaarweek van Daniël, wanneer die valse Messias met Israel en die nasies ‘n verbond sal sluit.
  • Aan die einde van die 70ste jaarweek sal die ware Messias kom, die valse messias en sy magte verdelg en die hele oorblyfsel van Israel fisies uitred én ook geestelik lewend maak. Hierna sal die Messiasryk aanbreek en ewige geregtigheid sal in Israel heers. Almal van hulle sal die Messias van harte dien en sy spesiale getuies op aarde wees.

Die profesie oor die 70 jaarweke is een van die duidelikste uitsprake in die Bybel oor Israel se dispensasionele posisie vanaf hulle herstel uit die Babiloniese ballingskap in die 5de eeu v.C. tot met die aanbreek van die Messiasryk. ‘n Eerste opmerking oor die 70 jaarweke is dat dit eksakte tydperke is wat as “sewetalle” (Heb. shabua) geïdentifiseer word. ‘n Jaarweek is ‘n periode van presies sewe jaar: “Ses jaar lank mag jy jou land saai... maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ‘n sabbat vir die Here” (Lev. 25:3-4). Die 1933/53 vertaling van die Bybel beskryf die jaarweke tereg as “sewetalle” terwyl die 1983 vertaling in vaagheid verval en dit slegs as “tydperke” van ‘n ongespesifiseerde lengte aandui. As gevolg hiervan verloor hierdie profesie baie van sy betekenis in die nuwe vertaling.

Moderne Israel het hulle Bybelse jaarweke weer herstel, en in hierdie siklusse onderhou ortodokse Jode elke sewende jaar as ‘n sabbatsjaar. Hulle huidige jaarweek strek vanaf 1 Tisri 2001, dit is September 2001 op ons kalender, tot op 1 Tisri 2008 (dit is nie seker of die moderne jaarweke presies reg met Bybelse jaarweke van 2000 jaar gelede sinchroniseer nie). Israel volg ‘n maankalender waarin elke maand met die nuwemaan begin en elke jaar op die eerste dag van die maand Tisri (wat Rosh Hashanah genoem word). Tisri, wat die eerste maand op Israel se siviele kalender is, is die sewende maand op hulle godsdienstige kalender (Lev. 23:24) wat met die lentemaand, Nisan, begin toe hulle uit Egipte getrek het (Ex. 12:2). Omdat ‘n maanmaand net 29½ dae lank is, is ‘n maanjaar 354 dae lank – 11¼ dae korter as ‘n seisoensjaar. As gevolg hiervan het Israel soms skrikkeljare met 13 maande elk om weer in pas met die seisoensjare te kom, want die maand Tisri moet altyd in die noordelike halfrond se herfs wees wanneer dit in Israel, wat ‘n winterreënvalgebied is, oestyd is.

Die sewentig jaarweke is egter nie seisoensjare of maanjare nie, maar 490 profetiese jare van 360 dae elk (vgl. Op. 11:2-3, 12:6 en 13:5 waarin daar na die twee helftes van die 70ste jaarweek as 42 maande en ook as 1260 dae verwys word, m.a.w. maande van 30 dae elk). In verband met die profetiese tydperk van 70 jaarweke moet daar baie duidelik gelet word op:

  • die vertrekpunt van die 70 jaarweke toe die opdrag uitgegaan het om Jerusalem weer op te bou;
  • die onderbreking daarvan aan die einde van 69 jaarweke toe die Messias verwerp is;
  • die aanbreek van die 70ste week wanneer ‘n verbond met die valse messias gesluit sal word;
  • die verbreking van Israel se verbond met die valse messias in die middel van die 70ste week; en
  • die voleinding van die 70 jaarweke wanneer die hele Israel gered sal word.

Wanneer daar duidelikheid oor die begin en voleinding van hierdie tydperk verkry is, verval alle onbybelse spekulasie daaroor. Min mense redeneer oor die aanvang van die 70 jaarweke, naamlik koning Artasásta se toestemming aan die Joodse ballinge om hulle stad en die tempel te gaan herbou (Neh. 2:1). Daar word egter baie teenstrydige uitsprake oor die einde van die 70 jaarweke gemaak. Sommige mense probeer om die hele tydperk van 490 profetiese jare by die kruisiging van Jesus af te sluit, en ander sluit dit by die verwoesting van Jerusalem in die jaar 70 n.C. af. Nie een van hierdie twee datums pas egter binne die raamwerk van 70 jaarweke nie. Om uitsluitsel hieroor te kry, moet ons op die volgende twee belangrike toestande let wat aan die einde van die 70 jaarweke sal heers, en dit sal duidelik eers ná die wederkoms van die Messias en Israel se nasionale versoening met Hom aanbreek:

Eerstens: Aan die einde van die 70 jaarweke sal, wat Israel betref, die goddeloosheid voleindig (Heb. kala), die maat van die volk se sondes vol en die ongeregtigheid versoen wees. Die werkwoord kala beteken om iets te beëindig en finaal af te sluit. Israel se sonde en ongehoorsaamheid as volk sal by die wederkoms van die Messias tot ‘n einde gebring word: “In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid” (Sag. 13:1). Die versoeningswerk wat in beginsel reeds op Gólgota gedoen is, sal dan eers in die praktyk deur die hele Israel in die geloof aanvaar word. Op daardie dag sal die oorblyfsel van Israel opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en rouklaag oor Hom soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun (Sag. 12:10). “Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26). Ná hierdie gebeurtenis sal die volk volkome, en in sy geheel, met God versoen wees en Hom almal van harte dien: “En hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees. En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie” (Jer. 32:38-40). Hierdie toestand het nog nooit eers naastenby in die geskiedenis van Israel aangebreek nie, daarom weet ons dat die 70 jaarweke nog nie voleindig is nie. Die huidige herstelde Israel verwerp Jesus nog net so uitdruklik as wat hulle voorvaders dit gedoen het. Daar moet dus nog ‘n groot nasionale versoening met die Messias plaasvind voordat ook die volgende profesie oor hulle in vervulling sal gaan: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit… Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:31-34). Totdat dit gebeur, is hulle ongeregtigheid as volk in die praktyk nog nie versoen en die maat van hulle sondes nog nie vol nie (Dan. 9:24). Israel se nasionale sondes vermeerder nog steeds.

Tweedens: Nadat Israel deur die Messias met God versoen is, sal ewige geregtigheid aangebring word, gesig en profeet sal beseël wees en wat hoogheilig is sal gesalf word. Die aanbring van ewige geregtigheid beteken letterlik dat “die geregtigheid van die eeue” ‘n aanvang sal neem. Dit beteken dat God met ‘n bedeling (dispensasie) sal begin wat deur geregtigheid gekenmerk sal word. Dit is duidelik ‘n verwysing na die duisendjarige vrederyk van Christus (Jes. 60:21; Jer. 23:5-6). Die beseëling van die profesieë beteken dat hulle ná die 70 jaarweke vervul, afgesluit en beëindig sal word. Israel moet dan almal gered en in hulle land herstel wees, en die Messias moet terug wees en van die herstelde troon van Dawid af oor Israel én die hele wêreld regeer. Sy vyande moet ook verdelg en die duisendjarige vrederyk ten volle gevestig wees. Hierdie toestand het duidelik nog nie aangebreek nie, want talle Bybelse profesieë, veral oor Israel en hulle land, is nog nie vervul nie en dus nog nie afgesluit en verseël nie. In die tyd wat kom, sal wat hoogheilig is, gesalf word. Dit sal eers gebeur wanneer die Gesalfde gekom het, sy diensknegte, die regeringsetel in Jerusalem en ook die tempel van die vrederyk (Eseg. 40 tot 44), as heilig aan die Here verklaar sal wees.

Omdat die jaarweke erkende tydseenhede in Israel se chronologie is, het ons hier met ‘n duidelik omskrewe profesie te doen. Vandat die woord uitgegaan het om Jerusalem te herbou, het daar sewe jaarweke verloop totdat die stad, die tempel en die muur rondom die stad klaar gebou was. Daarna het nog 62 jaarweke verloop waarin Jerusalem in tye van benoudheid bewoon en verder uitgebrei is totdat die Messias gekom het. In totaal het daar dus 69 jaarweke verloop tot met die uitroeiing van ‘n Gesalfde – dit is die kruisiging van die Messias. Die King James vertaling sê: “Messiah shall be cut off” (Dan. 9:26). Volgens Jesaja 53:8 is die Messias tydens sy kruisiging “afgesny” uit die land van die lewendes. Hiermee is God se heilsplan met Israel as volk duidelik as gevolg van die Messias se verwerping onderbreek.

Daar het inderdaad 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 v.C. aan Nehemia toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh. 2:1-8), tot met die kruisiging van die Messias op 14 Nisan 32 n.C. Prof. J.M. Schepers van die Randse Afrikaanse Universiteit het in ‘n artikel (“Die kruisigingsdatum van Jesus eeue tevore geprofeteer”) daarop gewys dat 483 profetiese jare van 360 dae elk, ‘n totaal van 173 880 dae verteenwoordig. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op ons Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke dus tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop, en is beëindig op die dag waarop Jesus gekruisig is. Al wat hierna in die heilsgeskiedenis van Israel as volk oorbly totdat die Messiasryk aanbreek, is sewe jaar – die 70ste jaarweek van Daniël, wat deur die volk se verbond met die valse messias ingelui sal word.

Dit is vanselfsprekend dat die verwerping en kruisiging van die Messias ‘n onderbreking in Israel se heilsgeskiedenis tot gevolg sou hê. Jesus het vir die Jode gesê dat hulle huis (Jerusalem) verwoes sou word omdat hulle Hom as Messias en Koning verwerp het (Matt. 23:37-38), en dat Hy as gevolg daarvan sou weggaan totdat hulle Hom tydens ‘n toekomstige ontmoeting as die beloofde Messias sal aanvaar: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).

Voordat Israel weer as volk in hulle land herstel sou wees, met ‘n eie regering wat ‘n besluit oor die herbouing van die tempel kan neem en namens die hele volk ‘n verbond met die Messias of die valse messias kan sluit, moes hulle eers vir ‘n lang tyd onder die nasies verstrooi wees terwyl die tye van die nasies sy loop neem. Jesus het vir Israel gesê: “[Julle sal] as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Dit impliseer baie duidelik dat Israel in die laaste dae as volk in die land wat die Here aan hulle vaders gegee het, herstel sal word: “So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land” (Eseg. 37:21). Die Joodse bevolking van Israel het in 2004 reeds tot 5,5 miljoen aangegroei, wat omtrent dieselfde as die aantal Amerikaanse Jode is. Binne die volgende paar jaar sal Israel se Jode beslis meer as dié in die VSA wees. Dit sal ’n belangrike demografiese keerpunt wees, omdat Israel vir die eerste keer sedert die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. die grootste konsentrasie Jode in die wêreld sal hê. Volgens ortodokse rabbi’s sal Israel dán namens die hele Joodse volk op ’n godsdienstig wettige manier besluite kan neem en verbonde sluit.

In die sewe jaar direk voor die Messias se wederkoms sal Israel, tydens die 70ste jaarweek, ‘n verbond met die valse messias sluit. Jesus het hulle hierteen gewaarsku: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). Dit is dus duidelik dat die onderbreking in die 70 jaarweke op die verwerping van die ware Messias gevolg het, en sal strek tot op die dag wanneer Israel ‘n verbond met die valse messias sluit. Dan sal die aftelling van die laaste jaarweek begin.

Ons leef nou in die tyd van die progressiewe herstel van Israel en Jerusalem, waarin die 70ste jaarweek van die volk se heilsgeskiedenis enige tyd kan begin. Volgens Daniël 9:26-27 sal dit ‘n aanvang neem wanneer die vors van ‘n volk wat sal kom (die Antichris, of valse messias) ‘n verbond met Israel én baie ander lande sluit. Sy toetrede tot die wêreldtoneel sal waarskynlik met ‘n ernstige oorlogsituasie verband hou (die Russies-Arabiese inval in Israel – Eseg. 38 en 39), en hy sal die krediet vir die oorwinning opeis. Hy sal dus op ‘n kritieke oomblik as ‘n vredevors tot Israel se redding kom, en ook deur al die nasies geloof word omdat hy ‘n moontlike derde wêreldoorlog afgeweer en ‘n internasionale ekonomiese ineenstorting voorkom het.

Hierdie hoogs dramatiese gebeure sal ‘n verreikende invloed op die Joodse volk, hulle regering en godsdiensleiers hê. Om al die opgewondenheid nog verder te verhoog, sal dié selfverklaarde “verlosser” aanspraak op die troon van Dawid in Jerusalem maak en op ‘n misleidende manier bewys dat hy ‘n afstammeling van Dawid is. Israel sal ‘n verbond met hom sluit waarin hulle hom as die beloofde Messias aanvaar. Hy sal ook aan hulle die reg gee om die tempel te herbou en weer die offerdiens in te stel, omdat dit die voortgesette verwerping van Jesus se Messiasskap en sy eenmalige offer aan die kruis sal verseker.

Gedurende die feestelikhede wat met die aanvaarding en inhuldiging van die valse messias gepaard sal gaan, sal ‘n geestelike herlewing plaasvind waarin 144 000 Jode hulle van hul regering se verbond met Satan se valse “engel van die lig” sal distansieer en vir Jesus Christus (Jeshua Ha Mashiach) as die ware Messias sal aanvaar (Op. 7:4). Hulle sal openlik standpunt teen die valse messias inneem, en dit sal tot hewige vervolging teen hulle aanleiding gee. Die valse vrede wat die Antichris sal bewerk, sal net 3½ jaar lank hou. In die middel van die jaarweek van sewe jaar sal hy in die herboude tempel se Allerheiligste ingaan en homself daar tot God verklaar (2 Thess. 2:4). ‘n Beeld van hom sal in die tempel geplaas word, en alle mense gedwing word om hom en sy beeld te aanbid (Op. 13:14-15). Dan sal hy Israel se nasionale godsdiens en offerdiens verbied: “…gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees” (Dan. 9:27).

Israel sal as gevolg hiervan hulle verbond met die valse messias verbreek en hom as Messias verwerp. Hy sal in woede op hulle toeslaan en ‘n Joodse volksmoord gelas. Op daardie dag sal die Jode vir hulle lewens moet vlug en geen oomblik kan verloor in hulle poging om van die valse messias se magte af weg te kom nie (Matt. 24:15-22). Daniël verwys na hierdie tyd van verskrikking wat in al sy felheid oor Israel sal losbars. Paniek sal heers en baie mense sal nie weet wat om te doen nie. Sommige van die Jode sal die valse Messias erken in die misleidende hoop om vrede, sekuriteit en ekonomiese voordele by hom te verkry. Die ander Jode sal hom egter verwerp en as gevolg daarvan hewig deur hom vervolg word (Dan. 11:31-36). Hierdie arrogante leier “sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45). Die ware Messias sal hom tydens sy wederkoms verdelg (2 Thess. 2:8; Op. 19:19-20). Dit sal die skielike einde van die valse messias se sewe jaar lange skrikbewind in Israel én op die hele aarde meebring, en dus ook die einde van die 70ste jaarweek van Daniël.

Uit die profesie oor die 70 jaarweke van Israel se geskiedenis voor die Messiasryk is dit duidelik dat hulle die ware Messias aan die einde van die 69ste jaarweek sou ombring, hulleself as gevolg daarvan uit God se raadsplan sou begewe, uit hulle land verdryf sou word, en dat hulle uiteindelik aan die begin van die 70ste jaarweek in groot getalle in hulle land terug sal wees en met die valse messias ‘n verbond sal sluit. Hierdie feite dui sonder enige twyfel daarop dat die hele 70ste jaarweek deel van Israel se heilsgeskiedenis is en derhalwe nie deel van die kerkdispensasie nie. Die tye van die nasies, wat met die kerkbedeling en die lang internasionale verstrooiing van Israel saamval, moet eers verby wees voordat die 70ste jaarweek ‘n aanvang kan neem.

Aan die einde van die 70ste jaarweek moet daar ‘n baie dramatiese ingryping van God in die Joodse volksgeskiedenis wees. Dit sal daartoe lei dat hulle van gepoogde uitwissing deur die valse messias gered sal word, en ook almal geestelik met die Messias versoen sal word. Dan sal ewige geregtigheid vir hierdie volk aanbreek, en sal almal van hulle die Here van harte deur die Messias dien. Die hoogtepunt van hulle heilsgeskiedenis as volk sal in die daaropvolgende duisendjarige vrederyk onder die heerskappy van die Messias aanbreek. Al die nasies sal Israel se guns soek omdat dit vir almal duidelik sal wees dat die Here met hulle is (Sag. 8:22-23).

Net so letterlik as wat die eerste 69 jaarweke tot met die verwerping en kruisiging van die Messias verloop het, sal die 70ste jaarweek ook in jare, maande én selfs in dae afgetel kan word. Die enigste onbekende faktor is wanneer die kerkbedeling deur die wegraping afgesluit, die Antichris geopenbaar en sy sewe jaar lange verbond met Israel en die nasies gesluit sal word. Die gevorderde stadium van Israel se herstel in hulle land (die bot van die vyeboom), asook Jerusalem se staatkundige herstel ná baie eeue van vertrapping deur die nasies, is vaste aanduidings dat dié tyd baie naby is.

Die boek Openbaring bied in hoofstukke 2 en 3 ‘n opsomming van die hele kerkbedeling op aarde aan, waarna die verheerlikte kerk in Openbaring 4 en 5 in die hemel aangetref word. Daarna begin die aftelling van die sewe jaar van verdrukking wat vir Israel en die ongeredde nasies bedoel is (die 70ste jaarweek van Daniël). Aan die einde daarvan sal Jesus Christus met sy verheerlikte kerk terugkeer aarde toe om sy duisendjarige vrederyk hier te vestig met Jerusalem as hoofstad van die wêreld (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17).

Daar móét ná die kerkbedeling ‘n sewe jaar tydperk aanbreek waarin Israel se heilsgeskiedenis tot met hulle nasionale bekering kan verloop, en waarin mense uit die ongeredde nasies ‘n laaste kans sal kry om Christus as Messias aan te neem – al sal dit ook in tye van groot benoudheid wees, waarin hulle bereid sal moet wees om die Antichris openlik te verwerp en as gevolg daarvan as martelare te sterf. Deur die opstanding van die regverdiges sal hulle verheerlikte liggame kry en in die heerlikheid van die Messias se duisendjarige regering op aarde deel. Johannes sê: “En ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank” (Op. 20:4). Dit is die tyd van ewige geregtigheid wat op die 70 jaarweke sal volg. Die herstelde Israel én die verheerlikte kerk sal ‘n groot rol hierin speel.

 

6. Die Aanbieding van Openbaring

Openbaring se volle titel is: “Die Openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur” (Op. 1:1). God openbaar sy toekomstige raadsplan deur Jesus Christus aan die apostel Johannes op die eiland Patmos, en deur hom aan die ganse kerk op aarde. Om die boek reg te kan verstaan, moet ons eers kyk hoedat Jesus Christus self aan ons geopenbaar word, en daarna die ander profesieë in die lig hiervan bestudeer. In Openbaring word Hy in die volgende agt hoedanighede aan ons geopenbaar:

1.      Hy is die ewig bestaande Skepper van die wêreld. Die eerste én laaste hoofstukke van Openbaring beskryf die Here Jesus as die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste (Op. 1:8,11,17; 22:13). Hy is “die begin van die skepping van God” (Op. 3:14). Dit sluit aan by wat Johannes vroeër reeds in sy Evangelie oor Hom geskryf het: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Paulus sê: “In Hom is alle dinge geskape... Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:16-17). Aan die einde, wanneer die huidige hemel en aarde deur vuur sal vergaan, sal die Here Jesus ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep. Dit is die rede waarom Hy in Openbaring sê: “Kyk, Ek maak alles nuut” (Op. 21:5).

2.      Hy is die lydende Christus wat vir ons sonde gely en gesterf het. Hy word 26 keer in Openbaring die Lam genoem, met die uitdruklike bedoeling dat ons moet besef dat Hy vir die sondes van die hele wêreld geoffer is. Die ouderlinge in die hemel sê dat Hy geslag is en ons vir God met sy bloed gekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie (Op. 5:9). Wanneer Hy weer kom, sal elke oog Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het (Op. 1:7).

3.      Hy is die verrese Christus wat die dood oorwin en opgestaan het. Hy sê: “Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid” (Op. 1:18). Hy is die Hoof van die gemeente wat deur die Heilige Gees in ons midde is. Hy stel Homself aan die martelaarsgemeente in Smirna voor as die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het (Op. 2:8). Ons aanbid en volg ‘n lewende Christus wat die graf en die dood oorwin het, daarom verkry almal wat in Hom glo, die ewige lewe en word opgeroep om in sy voetspore te volg (1 Pet. 2:21; 1 Joh. 2:6).

4.      Hy is die verheerlikte Christus wat ‘n lang kleed met ‘n goue gordel aan het. Hierdeur word sy hoëpriesterlike en koninklike waardigheid weerspieël. Sy hare is wit soos wit wol, wat op sy wysheid dui, en sy oë soos ‘n vuurvlam wat deur alles kan sien. In Hom is alle skatte van wysheid en kennis verborge – Hy weet alles en ken selfs al ons gedagtes. Sy voete is soos gloeiende koper in ‘n oond en sy stem soos dié van baie waters. Sy aangesig blink soos die son wat skyn in sy krag (Op. 1:13-16). In sy heerlikheid is Hy ver bo sy skepping verhewe.

5.      Hy is die Regter van die kerk wat nou reeds deur sy Woord die geloof en werke van alle gemeentes en individue beoordeel. Elkeen van die sewe gemeentes kry ‘n boodskap van die Here Jesus waarin Hy sê: “Ek ken jou werke.” Diegene wat op die regte pad is, word bemoedig om te volhard en as oorwinnaars uit die stryd te tree, terwyl die dwalendes ernstig gewaarsku word. Hy sê dat Hy die afvallige en vormgodsdienstige gemeentelede wat nie op sy vermanings ag slaan nie, in ‘n groot verdrukking sal werp as hulle hul nie van hul werke bekeer nie (Op. 2:22). Die finale beoordeling van die werke van gelowiges sal in die hemel voor die regterstoel van Christus plaasvind (2 Kor. 5:10). Die getroue dissipels sal genadeloon in die vorm van krone kry, daarom tref ons die ouderlinge in Openbaring 4 en 5 met goue krone op hulle hoofde aan – hulle het dan al reeds voor die Regter van die kerk verskyn.

6.      Hy is die Regter van die wêreld wat in die sewe jaar lange verdrukking wat vanaf Openbaring 6 tot 19 beskryf word, groot oordele van sy troon in die hemel af oor ‘n sondige wêreld sal uitstort. Die sondaars sal vreesbevange uitroep: “Die groot dag van die Lam se toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:17). Hulle sal weet dat al hierdie oordele oor hulle kom omdat hulle die soenoffer van die Lam op Gólgota verwerp het. Ná sy wederkoms sal Christus van sy troon van heerlikheid af die oorblyfsel van die nasies op aarde oordeel (Matt. 25:31-32). Aan die einde van die vrederyk sal Hy by die eindoordeel, van die groot wit troon af, die Regter van al die goddeloses van alle eeue wees (Op. 20:11-15; Hand. 17:30-31).

7.      Hy is die hemelse Bruidegom wat ná die wegraping met sy bruidsgemeente verenig sal word sodat hulle in sy heerlikheid kan deel en saam met Hom regeer. Daar gaan dus ‘n huwelik in die hemel bevestig word, en ná die sewe jaar van verdrukking ‘n bruilofsfees op aarde gevier word. Net voor die openbaring van Jesus Christus in heerlikheid op aarde, word die volgende aankondiging gemaak: “Die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak” (Op. 19:7).

8.      Hy is die Koning van die konings wat in Openbaring 19 terugkeer aarde toe om sy vyande te verdelg en, volgens Openbaring 20, sy duisendjarige vrederyk op aarde te vestig. In Handelinge 15:16-17 sê Hy dat Hy met sy wederkoms die vervalle troon van Dawid sal herstel, wat beteken dat Hy uit Jerusalem oor Israel én die hele wêreld sal regeer. Hy sal ook volgens Openbaring 21 en 22 as die Ewige Koning in die nuwe hemel en op die nuwe aarde regeer. Ewige heerlikheid sal heers en daar sal nooit weer enige ongeregtigheid, sonde of droefheid inkom wat dié heilige omgewing kan besoedel nie.

Christus tussen die sewe kandelaars

Dit is belangrik om die uitbeelding van Jesus Christus as die Hoof van die gemeente in Openbaring 1 raak te sien. Johannes het ‘n stem met hom hoor spreek: “Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens” (Op. 1:12-13). Johannes het eerste die kandelaars gesien, en daarna die Een wat tussen die kandelaars wandel. Jesus Christus het in daardie stadium liggaamlik reeds opgevaar hemel toe, maar Hy is deur die Heilige Gees in die midde van sy gemeente. Die Here Jesus neem in sy getroue gemeentelede se lewens gestalte aan. Hy vertrou sy woorde aan hulle toe sodat nie net die gemeentelede self nie, maar ook die hele wêreld, daardeur aangespreek kan word.

Hierdeur word ‘n belangrike beginsel vir die hele kerkdispensasie gevestig: Jesus Christus openbaar Homself deur weergebore gemeentelede wat sy liggaam op aarde is, en ook deur sy Woord wat Hy aan hulle gegee het. Aan sy getroue dissipels sal Hy sê: “Jy het my Woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8). Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op die lede van sy liggaam om Hom met hulle hele hart lief te hê, waardige getuies van Hom in die wêreld te wees, asook toonbeelde van sy liefde en genade. Die wêreld moet Christus in ons kan sien.

Die eenheidsverband tussen die Here Jesus en sy liggaam op aarde beklemtoon ‘n baie belangrike feit, naamlik dat alle weergebore Christene nie net medewerkers van God is om vir Hom te werk nie (1 Kor. 3:9), maar ook as die bruidsgemeente van Christus intiem aan Hom verbonde is en in sy ewige heerlikheid sal deel. Deur briewe aan die sewe gemeentes roep die Here Jesus almal van ons op om heiligmaking en diensbaarheid na te streef terwyl ons opleef na die hoë roeping van God in Christus Jesus (Fil. 3:14).

Die Here Jesus werk aktief deur sy gemeente in die uitbreiding van sy koninkryk. In die huidige dispensasie evangeliseer Hy die wêreld deur toegewyde gemeentelede wat Hom volg en met sy Gees vervul is. Nadat die kerkbedeling verby is, sal Christus die ongeredde wêreld in die verdrukking oordeel, maar eers nadat sy getroue getuies in verheerlikte liggame by Hom versamel is om saam met Hom die wêreld te oordeel (1 Kor. 6:2). Dit is die rede waarom die ouderlinge, wat die verheerlikte kerk voorstel, eers rondom die troon moet wees voordat die Lam die eerste seël van sy oordele oor die wêreld in Openbaring 6 sal oopmaak. Ná die tyd van oordele sal hulle saam met Hom as konings oor die wêreld regeer (Op. 5:10; 20:4-6). Die verhewe doel wat die Here Jesus met sy kerk op aarde het, is die rede waarom Hy hoë geestelike standaarde aan sy dissipels stel. Die sewe briewe word met die oog op morele reinheid, leerstellige suiwerheid en ywer in die Here se diens aan die gemeentes gerig, maar ook as ernstige waarskuwings aan die afvalliges en kompromiemakers.

Direk ná die inleidende hoofstuk van Openbaring word die kerkbedeling beskryf, waarin Christene geroep word om onder moeilike omstandighede en te midde van groot afvalligheid getuies vir Jesus Christus in ‘n bose wêreld te wees. Hulle moet aan die dood van die lydende Messias gelykvormig word, sodat hulle in die krag van sy opstanding kan leef en eendag in heerlikheid saam met Hom geopenbaar kan word om saam met Hom te regeer.

Die dispensasionele aanbieding van Openbaring

Daar is verskeie dispensasies, of bedelings, in die menslike geskiedenis. Die dispensasie wat ná die eerste koms, die kruisiging en hemelvaart van Jesus begin het, is die bedeling van die kerk. Dit is waar die boek Openbaring begin – by die verheerlikte Christus net ná sy hemelvaart. Die Heilige Gees is uitgestort en die Here Jesus wandel deur sy Gees in die midde van sy gemeente op aarde.

Direk ná die kerkbedeling wat in Openbaring 2 en 3 beskryf word, kry ons in Openbaring 4:1 die uitdrukking: “Ná hierdie dinge…” Dit dui baie duidelik aan dat alle dinge wat van hierdie oomblik af bespreek word, ná die kerkdispensasie sal plaasvind. In die hemel sal Jesus Christus as Regter aan sy gemeente geopenbaar word, waar hulle voor sy regterstoel hulle genadeloon sal ontvang (vgl. 2 Kor. 5:10). Hierna tref ons die verheerlikte kerk in Openbaring 4-5 rondom die Here se troon aan. Op aarde sal die dispensasie van die Antichris se sewe jaar lange regering aanbreek. Gedurende die sewe jaar van die verdrukking sal die Here Jesus as Regter verskeie oordele oor die wêreld uitstort, maar onder daardie haglike omstandighede nog steeds genade aan berouvolle sondaars bied.

Dit is nie net Jesus Christus en sy hemelse koninkryk wat geopenbaar gaan word nie, maar ook die Antichris en sy koninkryk van geestelike duisternis. Die valse profeet, asook die valse, ekumeniese wêreldgodsdiens (die moeder van die hoere) is ‘n deel van die verborgenheid van die Antichris wat in die verdrukking geopenbaar gaan word. Die Antichris word as ‘n dier met sewe koppe beskryf, terwyl die valse godsdiensorganisasie as ‘n ontugtige vrou op sy rug voorgestel word. Die engel het vir Johannes gesê: “Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel, en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra” (Op. 17:7).

Ná die regering van die Antichris sal Christus terugkeer aarde toe, die Antichris en sy meelopers verdelg, en dan die bedeling van God se geopenbaarde koninkryk op aarde vestig (Op. 20:1-6). In die Onse Vader-gebed word ons geleer om te bid: “Laat u koninkryk kom…” Hierdie koninkryk wat tans verborge is, sal met die wederkoms van Christus sigbaar geopenbaar word (Op. 11:15).

Ná afloop van die duisendjarige vrederyk sal die laaste bedeling van volmaakte geluk vir die regverdiges op die nuwe aarde en in die nuwe hemel aanbreek (Op. 21:7), asook die ewige straf vir die goddeloses in die onuitbluslike poel van vuur (Op. 21:8). Hierdie bedeling sal ewigdurend wees.

Johannes gee in die eerste hoofstuk van Openbaring aan ons ‘n vaste riglyn dat ons die beskrywing chronologies en dispensasioneel moet verstaan. Hy het die duidelike opdrag gekry: “Skryf die dinge op wat jy gesien het, die dinge wat is sowel as die wat gaan gebeur” (Op. 1:19). Die dinge wat hy gesien het, is die verheerlikte Christus aan die begin van die kerkbedeling. Die dinge wat is, dui op die kerkbedeling waarin Johannes in die jaar 95 reeds was toe hy die visioene ontvang het. Hierdie bedeling sal tot met die wegvoering van die gemeente voortduur. Die dinge wat gaan gebeur, is alles wat ná die wegraping sal plaasvind. Dit sluit die verdrukking van sewe jaar, die duisendjarige vrederyk én die daaropvolgende skepping van die nuwe hemel en aarde in.

Chronologiese struktuur van die boek

In die breë chronologiese struktuur van Openbaring volg gebeure mekaar só op:

  • Die verheerlikte Christus ná sy hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees om die kerk op aarde te vestig (hfst. 1).
  • Die bedeling van die kerk van Christus op aarde (hfst. 2 en 3).
  • Die verheerlikte kerk in die hemel ná die wegraping (hfst. 4 en 5).
  • Die bedeling van die Antichris se regering van sewe jaar, dit is die verdrukking, waartydens groot oordele van God oor die aarde en sy bewoners uitgegiet sal word (hfst. 6 tot 19).
  • Die sigbare koms van Jesus om die bedeling van die Antichris te beëindig en die bedeling van die koninkryk te vestig (hfst. 19).
  • Die bedeling van die koninkryk [die duisendjarige vrederyk] en die eindoordeel (hfst. 20).
  • Die bedeling van die ewigheid in die nuwe hemel en op die nuwe aarde (hfst. 21 en 22).

Binne hierdie vaste raamwerk, waarin die bedeling van die Antichris se regering duidelik tussen die bedeling van die kerk en die bedeling van die geopenbaarde koninkryk van Christus geplaas word, word die detail van die Antichris se regeringstyd van sewe jaar meesal nie chronologies nie, maar onderwerpsgewys, bespreek. Die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe laaste plae identifiseer die aard van gebeurtenisse, en nie altyd die chronologiese opeenvolging daarvan nie. Soms ís daar ‘n chronologiese verband, maar dikwels vind gebeurtenisse gelyktydig plaas. Sekere gebeure strek oor 3½ jaar of langer, en vind gelyktydig met baie ander dinge plaas.

Die ses seëls van Openbaring 6 beeld gebeurtenisse oor die hele sewe jaar uit:

  • Die wit perd (eerste seël) beeld die Antichris se rol as vredevors gedurende die eerste 3½ jaar uit. Dit is die tyd van valse vrede en eenheid op aarde.
  • Die rooi perd (tweede seël) beeld sy rol as militêre diktator in die laaste 3½ jaar van sy bewind uit. Hierdie 3½ jaar staan as die groot verdrukking bekend.
  • Die swart perd (derde seël) beeld sy rol as ekonomiese diktator en voedselrantsoeneerder in die laaste 3½ jaar uit.
  • Die vaal perd (vierde seël) beeld die Antichris se rol as mensemoordenaar in die laaste 3½ jaar uit, en val saam met sy militêre, ekonomiese en godsdienstige diktatuur.
  • Die vyfde seël van die martelare verwys na die tweede 3½ jaar van die Antichris se skrikbewind tydens die groot verdrukking.
  • Die sesde seël beskryf apokaliptiese rampe wat aan die einde van die sewe jaar sal plaasvind.

Openbaring 7 het ook ‘n toepassing in die hele sewe jaar van die verdrukking. Die 144 000 Joodse evangeliste van Openbaring 7:1-8 word aan die begin van die sewe jaar gered en hulle tree gedurende die eerste 3½ jaar op. Die Christenmartelare van Openbaring 7:9-17 word meesal in die eerste 3½ jaar gered, maar hoofsaaklik in die laaste 3½ jaar vervolg en tereggestel. Openbaring 7:14 bevestig die feit dat hulle uit “die groot verdrukking” (m.a.w. die tweede helfte van die jaarweek) in die hemel aankom waar elkeen ‘n wit kleed sal kry.

Die gebeurtenisse van Openbaring 12 en 13 vind in die middel van die verdrukking plaas. Dit beëindig die eerste 3½ jaar van valse vrede en lui die Antichris se militêre diktatuur van 3½ jaar in.

Gedurende die laaste 3½ jaar word die rampe, pessiektes en plae progressief erger – aanvanklik ná die blaas van die basuine en daarna weens die uitgiet van die sewe skale van God se grimmigheid oor die ryk van die dier.

Hoewel Babilon eers in Openbaring 17 en 18 bespreek word, het dit op die hele sewe jaar betrekking. Verborge Babilon (die valse wêreldkerk van Op. 17) verskyn reeds aan die begin van sewe jaar, en sy word in die middel van die sewe jaar vernietig wanneer die Antichris homself tot God verklaar. Politieke en ekonomiese Babilon (die groot stad van Op. 18) bereik die toppunt van sy mag in die tweede 3½ jaar, en word aan die einde van die sewe jaar tydens die wederkoms van Christus vernietig.

In die eindtydse profesieë van Openbaring word daar soms na die historiese oorsaak van ‘n krisis of saak terugverwys as ‘n verklaring waarom die bepaalde konflik in die eindtyd verder gevoer word. In Openbaring 12:3-4 word daar na die uitwerping van Satan en sy gevalle engele uit die hemel verwys, asook na sy poging, duisende jare later, om die vrou (Israel) se manlike Kind (Jesus) kort ná sy geboorte dood te maak. Teen hierdie agtergrond is dit duidelik waarom Satan deur die eeue heen die vrou, Israel, vervolg het, asook die dissipels van haar Seun in die kerk onder alle nasies. In die verdrukking sal Satan sy eeue-oue stryd teen Israel en die gelowiges onder die nasies voortsit, en ook weer ‘n poging aanwend om Jesus dood te maak wanneer Hy vir ‘n tweede keer na die aarde toe kom. Dit sal veral by die duiwel ‘n hoë prioriteit wees om teen Christus self te veg, omdat hy weet dat Jesus sal terugkeer om die Antichris se sataniese wêreldryk te verdelg en self oor die nasies te regeer. Satan weet ook dat hy gedurende daardie tyd vir ‘n duisend jaar lank in ‘n put gebind sal wees, en hy gaan alles in die stryd werp om dit te probeer voorkom.

Die terugverwysing na vroeëre gebeurtenisse in hierdie stryd help ons dus om dit wat in die verdrukking gaan gebeur, beter te verstaan. So ook word gesê dat die valse Babiloniese godsdiens, die ontugtige vrou van Openbaring 17, met die konings van die aarde gehoereer het (Op. 17:2). Dit dui op die bose invloed wat sy deur die eeue heen oor die volke van die wêreld uitgeoefen het om hulle geestelik te mislei en ontrou aan die ware God te maak. Om hierdie rede neem sy as “die moeder van die hoere” in die eindtyd ‘n ekumeniese gestalte aan sodat sy openlik met die Antichris kan saamwerk en daarna geoordeel kan word.

Die Here Jesus wys die martelaarsgemeente ook op die historiese feit van sy lyding, sterwe en opstanding, sodat hulle in die lig daarvan moed kan skep en volhard tot die einde toe – al beteken dit ‘n marteldood ter wille van hulle geloof in Hom: “Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid” (Op. 1:18; 2:8).

Israel in die verdrukking

‘n Verdere perspektief in verband met Openbaring wat goed begryp moet word, is die rol wat Israel in hierdie gebeurtenisse vervul. Johannes sê oor die sigbare verskyning van Christus: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf” (Op. 1:7).

Israel is die volk wat vir Jesus tydens sy eerste koms verwerp en op sy kruisiging aangedring het. Hulle sal dus in hulle land terug wees wanneer die Here Jesus terugkeer aarde toe, na dieselfde plek vanwaar Hy na die hemel opgevaar het – op die Olyfberg, net oos van die Tempelberg in Jerusalem. Die profeet Sagaria het oor die Messias se koms in mag en heerlikheid gesê: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant… Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:4-5). Die wederkomstoneel wat in Openbaring 19 beskryf word, sal dus in en om Jerusalem afspeel.

Op daardie dag sal die oorblyfsel van al die volke rou bedryf oor die feit dat hulle Jesus verwerp het, en met smeekbede en die belydenis van hulle sonde en rebellie voor Hom neerbuig. Onder hulle sal die hele oorblyfsel van Israel wees. Sagaria sê dat die Jode sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun, en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind (Sag. 12:10).

In Openbaring 11:1-2 word na die tempel in Jerusalem verwys wat in die verdrukking met die toestemming van die valse messias gebou sal word. In hierdie tempel sal die valse messias homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4) en die afgodsbeeld van hom waarna Openbaring 13:14-15 verwys, daarin laat oprig.

In Openbaring 12 is ook ‘n belangrike verwysing na Israel. Die beeld van ‘n getroude vrou met ‘n kind word hier gebruik, wat sonder enige twyfel op Israel dui. Van haar manlike Kind word gesê dat Hy al die nasies met ‘n ystersepter sal regeer, en dat Hy weggeruk is na God en sy troon (Op. 12:5). Dit dui op die Here Jesus wat na die hemel opgevaar het, en aan die einde van hierdie bedeling sal terugkom om die nasies in die vrederyk te regeer. Sy moeder na die vlees is die volk Israel uit wie Hy gebore is. Christus is nie uit die kerk gebore nie, maar wél uit Israel. Romeine 9:5 bevestig die feit dat Israel ‘n volk is uit wie ‘n God gebore is. In Openbaring 12:13-14 word gesê dat die nakomelinge van hierdie vrou (die eindtydse Jode) vir 3½ jaar na die woestyn sal vlug waar die Here hulle van uitwissing sal red en tot aan die einde van die groot verdrukking sal bewaar en onderhou.

Duidelike stellings in die boek

Die volgende vaste feite blyk uit Openbaring self, en moet in die bestudering en vertolking van hierdie belangrike profetiese boek in ag geneem word:

  • Die kerkbedeling eindig by Openbaring 3, so ook die gebruik van die uitdrukking: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (vgl. Op. 3:22). Hierna spreek die Gees wél gelowiges in Israel én die nasies aan, maar nooit in gemeenteverband nie (vgl. Op. 14:13). Die ware kerk wat misterieus aan die einde van Openbaring 3 op aarde verdwyn, verskyn in sy verheerlikte voorkoms in Openbaring 4 in die hemel.
  • Al die gebeurtenisse wat vanaf Openbaring 6 tot 19 beskryf word, gebeur streng binne ‘n tydsraamwerk van sewe jaar. Die twee helftes van hierdie jaarweek het elk 42 maande of 1260 dae (Op. 11:2-3, 13:5; vgl. ook Dan. 9:27 en 12:11). Dit is dus ‘n tydperk wat duidelik geïdentifiseer is en onder geen omstandighede simbolies verklaar en met die kerkbedeling verwar moet word nie.
  • Die Antichris en valse profeet verwys nie na abstrakte, simboliese begrippe nie, maar sal lewende persone wees wat op die dag van die wederkoms in die poel van vuur gewerp sal word (Op. 19:19-20). ‘n Onpersoonlike stelsel kan nie in die hel gegooi word nie – net die mense wat uitvoering daaraan gegee het.
  • In Openbaring 19, waar die wederkoms van Jesus beskryf word, maak die kerk weer sy verskyning saam met Christus op aarde (Op. 19:7-8). Dit is ‘n bevestiging van Kolossense 3:4 en Sagaria 14:5. Daar is geen sprake daarvan dat gelowiges nou soos konings saam met die Here Jesus oor die aarde regeer nie, want hulle is vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld (1 Pet. 2:11).
  • Die duisendjarige vrederyk wat in Openbaring 20 beskryf word, kan eers ná die wederkoms van Christus aanbreek, want dan sal Satan vir ‘n duisend jaar in ‘n put gebind word. Op die oomblik is hy nie in ‘n put gebind nie, maar loop hy rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8).

Wanneer die struktuur en samestelling van Openbaring in ag geneem word, is die profesieë van hierdie boek verstaanbaar en logies. Dit is nie ‘n verborgenheid nie, maar ‘n openbaring. Die boek se eie uitspraak dat die getuienis van Jesus die gees van die profesie is (Op. 19:10), bevestig die sentrale rol wat Jesus Christus daarin speel. Die lotgevalle van mense, in seën én in oordeel, staan in ‘n direkte verband met hulle verhouding teenoor Christus. Dit geld vir alle mense op aarde – Hy is óf jou Redder, óf Hy sal jou Regter wees wat jou weens jou sonde en ongeloof tot die ewige poel van vuur sal veroordeel. Ons is nou nog in genadetyd en kan van die duisternis af oorkom na die Here se wonderbare lig. Dan sal Jesus Christus nie vir ons tot ‘n val wees nie, maar tot ‘n opstanding in ‘n nuwe lewe.

Die nuwe hemel en nuwe aarde wat in Openbaring 21 en 22 beskryf word, asook die ewige poel van vuur in Openbaring 21:8, dui die finale bestemmings van alle mense aan – sowel diegene wat hulle op die Here se smal weg bevind het as die miljoene mense op Satan se breë weg.

Jesus Christus is die poort na die ewige heerlikheid wat Hy gaan berei het vir dié wat Hom liefhet. Hy is die Een wat almal gaan oordeel wat sy reddende genade verwerp het omdat hulle die pad van die sonde bó Hom verkies het. Mense gaan aan die mag van die Antichris oorgegee word omdat hulle nie die gesag en koningskap van die ware Christus in hulle lewe aanvaar het nie. Die Here Jesus gaan ook terugkom om die troon van Dawid in Jerusalem te herstel en sy koningskap sigbaar op aarde te vestig. Voor Hom sal elke knie buig en elke tong bely dat Hy die Here is!

Johannes was in die Gees op die dag van die Here. Hy het met profetiese vleuels van verrukking opgestyg en oor ongebore eeue gereis om die ontvouing van God se plan in die ontsagwekkende gebeure van die groot en verskriklike dag van die Here te aanskou. Die dag van die Here is ‘n tydperk van ‘n duisend jaar waarin die Here Jesus Homself op ‘n baie besondere wyse aan die hele mensdom gaan openbaar:

  • By die regterstoel van Christus gaan Hy Homself net ná die wegraping aan sy diensknegte (die ware kerk) openbaar om aan hulle hul loon te gee. Paulus het uitgesien na die krone wat die Here, die regverdige Regter, hom in “dié dag” [van die Here] sal gee (2 Tim. 4:8).
  • In die sewe jaar lange verdrukking sal die Here Jesus die seëls van God se oordele oor ‘n onbekeerlike wêreld oopmaak. Die kragte van die hemele sal geskud word (Op. 6:15-17).
  • By sy wederkoms ná die groot verdrukking sal Hy as Koning van die konings geopenbaar word en sy duisendjarige vrederyk op aarde vestig (Op. 19:11-15).
  • Aan die einde van die vrederyk sal Hy die Regter van die goddeloses wees wat in die tweede opstanding opgewek sal word om voor die groot wit troon te verskyn (Op. 20:11-15).
  • Hierna sal Hy ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep waarin geregtigheid woon (Op. 21:1-5).

Ongelukkig beskou baie mense Openbaring as ‘n geslote, simboliese boek en doen nie moeite om dit te bestudeer en te verstaan nie. Hulle raai ander mense selfs daarvan af om die profesieë intensief te ondersoek. Daardeur doen hulle iets waarteen die Here ons juis waarsku: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby” (Op. 22:10).

Die Here beloof ‘n spesiale seën aan almal wat die profesieë van Openbaring bewaar (Op. 1:3; 22:7). Die beloftes en waarskuwings in die boek moet ter harte geneem word. Die vervulling van Bybelse profesieë sal aan ons insig in en die regte ingesteldheid teenoor ons tydsomstandighede gee. Ons sal kan sien hoedat strukture vir die Antichris se wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie geskep word, en ook begryp dat ons as sy teëhouers alles moontlik moet doen om die goddelose hervormings en godsdienstige kompromie van ons tyd teë te staan. As ons dit nie doen nie, sal ons as oningeligte mense wat geen weerstand kan bied nie, deur die krag van die dwaling meegesleur word om saam aan die Babiloniese samelewingsorde van die eindtyd te bou. Die Here roep al sy kinders tot gereedheid op deur ‘n nuwe oorgawe aan Hom te doen (Luk. 21:36; Mark. 13:33-37), misleiding te weerstaan, die waarheid te verkondig en sy koms te verwag.

 

7. Die Kerk op Aarde

Deur middel van sewe briewe stuur die Here Jesus boodskappe van bemoediging en vermaning aan sy kerk op aarde. In die jaar 95, toe daar reeds meer as 100 gemeentes was, het Hy sewe van hulle uitgekies wat die tipiese kenmerke van die ganse kerk vertoon het – nie net op daardie oomblik nie, maar ook dwarsdeur die hele kerkbedeling totdat dit beëindig sal word en die Antichris se regering sal aanbreek. Openbaring 2 en 3 gee twee aanvullende perspektiewe op die Christelike kerk, naamlik ‘n eietydse én ‘n profetiese een. Op enige tydstip in die geskiedenis vertoon die Christelike kerk die eienskappe van die sewe tipiese gemeentes. Dit was kenmerkend van die vroeë Christelike kerk toe hierdie briewe geskryf is, en is nog steeds kenmerkend van die 21ste eeu se kerk. (Vir ‘n uiteensetting van die geestelike eienskappe van die sewe gemeentes soos wat hulle in die eerste eeu bestaan het, lees Die Dag van die Here deur Johan Malan).

Verder kan daar in ‘n profetiese toepassing van die sewe briewe ook ‘n chronologiese opeenvolging van sewe tydperke in die kerkgeskiedenis gemaak word. Hoewel die verskillende gemeentetipes nog altyd saam bestaan het, het die algemene karakter van die Christelike kerk oor tyd heen deur hierdie sewe tipes beweeg. Daar is dus sewe duidelik onderskeibare tydperke in die kerkgeskiedenis, en in die volgende oorsig sal die klem hierop val. Uit dié oogpunt gesien, het die briewe aan die sewe gemeentes ‘n baie aktuele boodskap aan die ganse kerk van alle tye. Ons leef tans in die periode van Laodicea, die laaste van die sewe gemeentes op aarde. Die ander ses kerktipes kom ook nou voor, maar in die Laodicea tydperk speel hulle nie die oorheersende rol nie.

Aan die einde van die eerste eeu toe Johannes hierdie boodskappe ontvang het, was daar reeds aansienlike veragtering in die vroeë Christelike kerk bespeurbaar. Die aktiewe, Geesvervulde gemeentes waarvan ons in Handelinge lees, het verflou in hulle liefde vir die Here Jesus en hulle ywer vir die verkondiging van die ware evangelie. Mettertyd het die meeste van hulle net ‘n leë vormgodsdiens oorgehou waarin Jesus Christus nie meer die sentrale plek beklee het nie. Afgodediens en kompromie met die wêreld het oral kop uitgesteek. Christus lê in elke geval sy vinger op die kern van die probleem en roep afvallige kerkgangers tot bekering en ‘n nuwe gehoorsaamheid aan Hom op.

Soos dit uit die briewe blyk, is daar in die verskillende gemeentes ook ‘n groot aantal naamchristene wat nie werklik gered is nie. In die geestelik erg vervalle toestand waarin baie van die kerke vandag verkeer, is by verre die meeste lidmate nominale Christene wat net ‘n gedaante van godsaligheid het. Dit is met die oog op hulle dat die Here aan vyf van die sewe gemeentes bekeringsboodskappe rig. Dit behels bekering uit dooie vormgodsdiens, leerstellige dwalings, morele verval, afgodediens, materialisme, selfregverdiging en kompromie met die wêreld. Daar moet dus voortdurend ‘n selfondersoek en suiweringsproses in die kerk van Christus wees sodat dwalings en afvalligheid nie die oorhand kry nie.

Die sewe gemeentes, in ‘n chronologiese profetiese perspektief as tydperke in die kerkgeskiedenis, is die volgende:

1. Éfese – die teruggevalle kerk

Éfese is kenmerkend van die geestelik veragterde kerk wat ná die Handelinge tydperk ontstaan het. Daar was nog baie gemeentelike aktiwiteite, maar die liefde vir die Here Jesus was nie meer die basiese motivering nie. Christus kan nie met hierdie vorm van kerkisme genoeë neem nie, al is die lidmate ook baie geesdriftig in wat hulle doen. Hy spreek die probleem reguit aan wanneer Hy vir die gemeente sê: "Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie" (Op. 2:4-5).

Die menslik-geïnspireerde werke wat lidmate vir hulle kerke doen, is nie vir Hom aanvaarbaar nie. 'n Lewende gemeente is een waarin lidmate onder die inspirasie en leiding van die Heilige Gees die Here dien. Dit is die "eerste werke" waarheen hulle hul moet bekeer. Indien hulle dit nie doen nie, sê die Here Jesus, sal Hy sy Heilige Gees aan hulle onttrek. Hulle kandelaar sal dan geen lig gee nie en geestelike duisternis sal oor die gemeente toesak. As menslike organisasie sal hulle nog kan voortbestaan, maar hulle sal geen spreekbuis vir die Here wees nie. Hy sal sy kandelaar aan 'n ander gemeente gee wat bereid is om Hom op 'n toegewyde en selfverloënende wyse in die krag van die Heilige Gees te dien. Wat is die aard van jou godsdiensbelewenis? Dien jy die Here onder morele dwang en uit eie krag omdat dit ‘n gevestigde gewoonte van jou familie of volk is, of is jy weergebore en dring die Heilige Gees jou om die lof van jou Verlosser te verkondig? Ons moet seker maak wat die motief is agter dit wat ons doen.

Ongeredde naamchristene hou hulleself gewoonlik met kerklike dogmas besig en is navolgers van ander mense – nie in die eerste plek van Jesus Christus nie. Toe Paulus in Éfese gearbei het, het hy juis hierteen gewaarsku en gesê: “Uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie" (Hand. 20:30-31). Is jy dalk deur ander mense van die ware pad van die Here af weggetrek? Bekeer jou dan en doen die eerste werke! Wees net ‘n volgeling en dienaar van Jesus Christus!

Die opset in Éfese is kenmerkend van die vroeë Christelike kerk tot omstreeks die jaar 100. Dit geld sowel hulle aanvanklike liefde vir die Here Jesus as hulle latere veragtering in die geloof.

2. Smirna: die vervolgde kerk

Smirna beteken “bitterheid” en is 'n aanduiding van die genadelose vervolging en bitter lyding wat die kerk onder die Romeinse juk moes verduur. Onteiening, tronkstraf en marteling was aan die orde van die dag. Dikwels is die gevangenes in groot arenas gejaag om deur leeus en ander roofdiere verskeur te word. Hulle lewens is as niks gereken nie, en toeskouers het die arenas in hulle duisendtalle ter wille van vermaak besoek om met genoegdoening na hierdie barbaarse dade te kyk.

Die Here Jesus het innige meegevoel met die martelare, omdat Hy self die Een is wat die lydensweg bewandel en die bitter beker van vervolging tot die laaste druppel geledig het. Hy stel Homself aan hierdie gemeente voor as die Een wat dood was en lewend geword het. Hy bemoedig hulle om te midde van die lyding vas te staan, want as hulle tot die dood toe getrou bly, sal hulle onverganklike opstandingsliggame kry en vir ewig lewe: "Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee" (Op. 2:10).

Die tien dae is waarskynlik 'n verwysing na die vervolging van Christene wat tydens die bewindstermyne van tien opeenvolgende Romeinse keisers plaasgevind het – vanaf Nero in 64 n.C. tot met Diokletianus in die jaar 305. Met die aanvang van die Smirna tydperk was die vervolging reeds aan die gang en sou dit vir nog meer as twee eeue lank voortduur. Die laaste paar jaar onder keiser Diokletianus was die bloedigste. Hierdie tiran het homself ook, soos die meeste van sy voorgangers, vergoddelik. Hy het dit egter nog verder gevoer sodat mense voor hom op hul knieë moes val, die soom van sy kleed soen en uitroep: "Dominus et Deus!" ("My Here en my God!"). Die gepaardgaande vervolging word as die ergste van alle Christenvervolgings bestempel, en het ná Diokletianus se abdikasie in 305 nog tot in die jaar 312 n.C. voortgeduur.

3. Pergamus: die verleide kerk

'n Belangrike wending het in 312 n.C. plaasgevind toe keiser Konstantyn die vervolging van Christene verbied en self die Christelike geloof aanvaar het. Op een van sy veroweringstogte het hy na bewering 'n kruis aan die hemel gesien met die volgende woorde daarby: "In dié teken sal jy oorwin.” Sedert hierdie gebeurtenis het hy aansienlike militêre welslae behaal en as gevolg daarvan die Christendom aangehang. Deur die Edik van Milaan het hy in 313 n.C. aan die Christendom gelyke regte met die ander godsdienste verleen. Sy persoonlike betrokkenheid was egter twyfelagtig omdat hy nie die heidense godsdienste veroordeel het nie en homself eers kort voor sy dood laat doop het.

Die veranderings in die Christelike kerk was nogtans geweldig. Skielik is die vervolgde kerk amptelik erken en moes dit sy deure vir hoë amptenare en gesiene burgers oopgooi. Hulle het, soos Konstantyn, besluit om ook 'Christene' te word. Die eise van die evangelie is afgewater om die boodskap vir die nuwe gehore meer aanvaarbaar te maak. Die keiser het finansiële hulp vir die oprigting van indrukwekkende geboue aan die kerk geskenk. Op die ekumeniese konsilie van Nicea in 325 n.C. het 'n orde van biskoppe hulle houvas op die kerk gekry en openlik kompromie met die wêreld én met ander gelowe gemaak.

Deur hierdie hervormings is die leer van die Nikolaïete ingevoer, wat in die Éfese tydperk reeds sy kop uitgesteek het. Gewone lidmate se regte en inisiatief vir selfstandige optrede is toenemend onderdruk, en hulle het later slegs volgens die voorskrifte van die afvallige biskoppe en priesters gehandel. Hierdeur is growwe inbreuk op die gesag van die Woord van God en die leiding van die Heilige Gees in die lewens van gelowiges gemaak. Die kompromie wat die kerk met die sekulêre wêreld gemaak het, het noodwendig tot geestelike afvalligheid en ontrouheid teenoor die Here gelei. Hierdie verskynsel word ook duidelik deur die naam “Pergamus” weerspieël, wat “troue” beteken. Tydens die bewind van Konstantyn is 'n huwelik tussen die kerk en die staat gesluit, maar in die oë van die Here kom vriendskap van hierdie aard op geestelike hoerery neer: "Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God" (Jak. 4:4).

Heidense afgodediens het byna ongesiens in die Christendom ingesluip en onder andere tot die vergoddeliking van Maria in 381 ná Christus gelei, asook die vermenging van Kersfees en die heidense fees vir die songod (Invicti Solis) wat op 25 Desember met die draai van die son gevier is. Sodoende het Christelike en heidense feeste vermeng geraak. Hierdie kerkperiode het in die vierde, vyfde en sesde eeue voortgeduur.

4. Thiatire: die afvallige kerk

In die jaar 606 is Bonniface III as universele biskop gekroon. Hierdeur is die lang tydperk van rigiede oorheersing deur die afvallige kerk van Rome ingelui. Hierdie kerk is deur 'n magsbehepte hiërargie van priesters, biskoppe, aartsbiskoppe, kardinale en pouse regeer. Die gesag van die kerk se leerstellings is verhef tot bokant dié van die Bybel, en die pous se uitsprake is as onfeilbaar beskou. Jesus Christus se middelaarsposisie is deur hierdie hervormings aangetas en ondermyn. Lidmate het nie in die geloof geleef en ‘n verhouding met Christus gehandhaaf nie, maar was slaafse navolgers van die kerk. Hulle saligheid is aan kerklike sakramente soos die doop en die Nagmaal gekoppel. Lidmate is egter nie hierdeur geestelik ingestel nie, maar het vormgodsdienstig geraak. Hulle het later selfs voor die priesters oor hulle sondes gebieg en geld vir die vergifnis van oortredings aan die kerk betaal.

Die gevolg van die magsgreep wat die kerk oor samelewings én regerings verkry het, was dat geestelike en kulturele ontwikkeling heeltemal onderdruk is. Hierop het die duisend jaar van die Donker Middeleeue gevolg, waarna soms as Satan se millennium verwys word. In hierdie tyd is ‘n groot deel van die tradisioneel Christelike wêreld deur ‘n dooie, vormgodsdienstige kerk oorheers. Dié kerk was daarop ingestel om homself te verryk, sy invloed ten koste van evangeliese kerke uit te brei, beheer oor regerings en lande te verkry en in die proses die enigste bepaler van godsdienstige kennis te word. Die ware Christene is erg deur hulle vervolg, en groeiende opposisie teen hulle het uiteindelik tot die Kerkhervorming van die vroeë 16de eeu gelei. Dit sou egter ‘n lang pad wees om weer die volle waarheid van die Woord van God te ontdek, in die geloof toe te eien en aktief te verkondig.

5. Sardis: die dooie kerk

In die profetiese toepassing van hierdie brief dui die Sardis periode op die kerk van die Hervorming, wat in die 16de eeu sy beslag gekry het. Baie Christene slaan hierdie kerkperiode baie hoog aan, maar die Here doen dit nie. Hy sê vir Sardis: "Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood" (Op. 3:1). Hulle het wél ‘n groot aantal uiterlike dwalings van Rome verwerp, maar geestelik was hulle steeds dood. Hierdie gemeente is nie as gevolg van afgodediens of kompromie met die wêreld verkwalik nie, maar weens ‘n lewelose vormgodsdiens.

‘n Dooie kerk is vir die Here nét so verwerplik soos ‘n valse of wêreldgelykvormige kerk. Voordat die lidmate nie waarlik weergebore en met die Gees van God vervul is nie, is hulle nie deel van sy koninkryk nie en beteken vir Hom niks nie. Hulle is geestelik dood en het iets meer as net die reputasie en goeie naam van die stigters van die gemeente nodig gehad om uit God se oogpunt ‘n sukses te kon maak. Teologiese hervormings sonder ‘n gepaardgaande geestelike verootmoediging voor die Here, asook ‘n absolute en heelhartige toewyding tot heiligheid, lei nie na innerlike vernuwing en geestelike groei nie.

Baie van die geestelike dwalings wat in die voorafgaande duisend jaar hulle beslag gekry het, en onder meer deur die geskrifte van Augustinus gepopulariseer is, het die kerk van die Hervorming gekniehalter. In die herlewings van die 18de eeu is eers volledig van dié dwalings af weggebreek. Die geskiedenis bevestig die feit dat die hoofstroom van die kerk van die Hervorming in die 200 jaar van sy bestaan minder evangelisasiewerk gedoen het as wat gedurende slegs 20 jaar in die daaropvolgende Filadelfia tydperk gedoen is. Geestelik was daar dus groot probleme.

6. Filadelfia: die evangeliserende kerk

“Filadelfia” beteken “broederliefde,” en juis dit was die dryfkrag agter die herlewingsdienste en wêreldsendingaksies wat tussen 1750 en 1900 onderneem is. Vervul met die Heilige Gees het manne in die geloof uitgegaan om as pioniers die lig van die evangelie na haas onbekende gebiede in Asië, Afrika, Suid-Amerika en die eilande uit te dra. Die Here sê vir sy getroue gesante: "Kyk, Ek het voor jou 'n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie" (Op. 3:8). Onder die geloofshelde van hierdie tyd, wat die wêreld deur hulle prediking vir Christus aan die brand gesteek het, is manne soos George Whitefield, John Wesley, Charles Finney, R.A. Torrey, D.L. Moody, Jonathan Edwards, Hudson Taylor, William Carey, Andrew Murray en vele ander.

Dit is opvallend dat dit slegs die evangeliserende kerk van Filadelfia en die martelaarskerk van Smirna is wat geen teregwysings weens dwalings of morele verval van die Here ontvang nie. Die martelare van Smirna het aangehou om die ware evangelie te verkondig, en selfs in gevangenskap nie daarvan afgewyk nie. Die sterk punt van die Filadelfia gemeente was dat hulle die Here se Woord bewaar en sy Naam nie verloën het nie. Hulle het ‘n duidelike standpunt ter ondersteuning van die foutloosheid en goddelike inspirasie van die Bybel ingeneem, en ook die Naam van die Here Jesus geëer deur sy godheid en maagdelike geboorte te bely. Die ware kerk van Christus verkry gestalte in getrouheid en selfverloënende diens te midde van die antagonisme en teëstand van kompromiemakende, afvallige kerke én 'n vyandige wêreld.

7. Laodicea: die kerk van menseregte

Die naam “Laodicea” beteken “menseregte.” Die lou, selfvoldane en selfgesentreerde gemeente van Laodicea is kenmerkend van die kerk van die 20ste en 21ste eeue en verteenwoordig die laaste periode in die kerkgeskiedenis. Soos in die vorige periodes, is daar nou ook elemente van al sewe die gemeentes aanwesig, maar die oorheersende kenmerk is dié van Laodicea.

Tevrede met slegs 'n uiterlike gedaante van godsaligheid gaan hulle voort op die weg van vormgodsdiens, en is nie eers bewus van hulle geestelike armoede nie. Ten spyte van al die welvaart en goed georganiseerde aktiwiteite word Christus nie werklik geken of gedien nie. Sy Naam word wél gebruik, maar daar eindig dit ook (vgl. Matt. 7:21-23). Van só 'n stelsel van mensgemaakte godsdiens wat op intellektuele argumente, morele beredenering en uiterlike vertoon ingestel is, onttrek die Here Jesus Homself. Hy sê ook duidelik waarom Hy dit doen: "Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie" (Op. 3:16-17; kyk ook 1 Tim. 6:7-12).

Bykans die hele eindtydse kerk word deur die gees en tipiese denkwyse van Laodicea oorheers. Binne hierdie teologiese raamwerk is die hele onderwerp van sonde (insluitend homoseksualisme) irrelevant omdat die begeertes van die vlees die botoon bo die voorskrifte van die Bybel voer. Die god van hierdie wêreld, Mammon, swaai sy septer oor die vervalle kerk van Laodicea. Mense word mislei om rykdom, populariteit, sukses en ‘n wêreldse selfbeeld na te streef. Hierdeur word ‘n antichristelike vorm van humanisme bevorder wat op selfverheerliking en roem op jou eie prestasies ingestel is. Die misleide lidmate soek net die Here om hulle in wêreldse terme nóg meer voorspoedig te maak, en is glad nie op selfverloëning (Luk. 9:23), selfkruisiging (Gal. 6:14) en vervulling met die Heilige Gees (Ef. 5:18) ingestel nie. Hulle vleeslikheid lei egter na totale geestelike stagnasie (Gal. 5:17), oorheersing deur die hartstogte en begeerlikhede van die vlees, en die misleidende idee dat al hulle voorspoed bewyse van die Here se seën is.

Die Here Jesus distansieer Homself van hierdie soort oppervlakkige vormgodsdiens. Nogtans maak Hy steeds met die geestelik "arm en blinde" lidmate bemoeienis as Hy by die 21ste eeu se kerk aanklop en deur ‘n roepstem van buite af met hulle praat en hulle tot bekering oproep: "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My" (Op. 3:20). As gevolg van hulle selfgesentreerdheid en ingesteldheid op wêreldse kwessies, is die eindtydse kerk geestelik bankrot en profeties uitsigloos. Die belofte van die naderende wegraping hou ‘n bedreiging vir hulle aardse koninkryk in, daarom verkies hulle om dit eerder te verwerp, te vergeestelik of na die verre toekoms te verskuif.

Die uitdaging tot getrouheid

Die terminologie wat ten opsigte van die kerk van Christus gebruik word, laat die klem duidelik op die roeping en rol van Christene in hierdie bedeling val. Die ware gelowiges word as die gemeente (m.a.w. die uitgeroepenes) beskryf (Op. 2:1 e.v.) en ook as getroue getuies (Op. 2:13), diensknegte (2:20) en oorwinnaars (2:26; 3:12,21). Kan jy daarvan getuig dat jy ‘n uitgeroepene is wat uit die duisternis van verlorenheid na die wonderbare lig van die Here Jesus oorgekom het? Is jy, soos Antipas, ‘n getroue getuie van die Here wat ten spyte van dreigemente, verwerping en vervolging vir die waarheid uitstaan? Is jy ‘n toegewyde dienskneg van Here wat soos Paulus kan sê: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar” (1 Kor. 9:27)? Die groot toets is of jy aan die einde van jou lewe, of op daardie oomblik wanneer die Here ons kom haal, as ‘n oorwinnaar beskryf sal kan word. Jy moet deur die bloed van die Lam oor versoekings, verleiding deur die vlees en die wêreld en oor al die mag van die vyand oorwin, terwyl jy aanhou om die Here Jesus onder alle omstandighede te dien. Hy sê: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11). Dit is slegs die oorwinnaars wat geestelik as rein maagde, sonder vlek of rimpel, voor die Here Jesus sal verskyn.

Paulus beskryf die gemeente as die bruid van Christus: “Ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Kor. 11:2-3). Hieruit is dit duidelik dat Christene voor geweldige versoekings te staan kom terwyl hulle in ‘n wêreld leef wat in die mag van die Bose lê. Die duiwel kom op ‘n baie misleidende wyse soos ‘n engel van die lig na hulle toe en probeer alles in sy vermoë om hulle van die waarheid afvallig te maak en in wanvoorstellings van die Bybel én van die Here Jesus te laat glo. Vir hierdie doel gebruik hy ‘n groot aantal predikante om allerlei goed klinkende leuens aan mense te verkondig wat leerstellig nie sterk oortuigings het nie. Paulus sê: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4).

Is jy ‘n soldaat vir Christus wat met die volle wapenrusting van God beklee is sodat jy staande kan bly teen die liste van die duiwel? Voer jy hierdie stryd met die swaard van die Gees, wat die Woord van God is? Dit is net die waarheid van die Woord wat ‘n vrymakende krag het teen al die leuens wat die duiwel aan jou opdis. Onthou ook dat jy op die pad van die Here net deur die Heilige Gees in die hele waarheid gelei kan word. Jy kan nie deur menslik-bepaalde doelstellings gedryf word om ‘n sukses van die Christelike lewe te maak nie. Dit sal nie help om ‘n positivistiese evangelie na te volg waarin daar net voordele nagestreef word, met geen verwysing na misleiding en die stryd teen die Bose nie. Hoe sal jy dán die gees van misleiding kan onderskei (1 Joh. 4:1) en die valse profete, asook die opmars van die Antichris, kan teëstaan?

Dit is ongelukkig duidelik dat die meerderheid lede van die kerk van Christus nie die waarskuwings oor geestelike misleiding ernstig genoeg ter harte neem nie. Die sewende en laaste gemeente, dié van Laodicea, het só humanisties en sekulêr in sy denke geraak en só ver van die ware evangelie afvallig geraak dat die Here Jesus Homself aan hulle onttrek het. Die tragedie is dat hulle nie eers agtergekom het dat hulle alleen op pad was nie, en net aangehou het om hulleself in die Naam van die Here salig te spreek. Hulle het huigelaars geword wat nie eerlik oor die feit is dat hulle diep in hulle harte selfgesentreerd, aanmatigend en verdorwe is nie.

Op hierdie donker noot sluit die kerkbedeling af. Nadat die Here die ware kerk kom haal het, sal die meeste denominasies verder van die waarheid af wegdwaal en die valse christus aanhang. Hieruit sal die valse kerk van die verdrukking gebore word. Dit sal die vervulling van die Here se waarskuwing aan die gemeente in Thiatire wees, naamlik dat Hy hulle in die groot verdrukking sal werp as hulle hul nie bekeer nie (Op. 2:22). Die Here Jesus sê vir sy getroue volgelinge dat hulle moet vasstaan en geen kompromie maak nie: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26).

As jy deur die bloed van Christus vrygekoop en ‘n geheiligde, diensbare lid van sy bruidsgemeente is, sal jy in die heerlikheid van sy toekomstige openbaring deel! Dan sal ons regters wees wat saam met Jesus Christus die wêreld sal oordeel (1 Kor. 6:2) en ook konings wat saam met Hom sal regeer (Op. 5:9-10). Nou, in hierdie bedeling, is ons egter nie konings en regters nie, maar soldate van die kruis, diensknegte van God en volgelinge van die lydende Messias wat deur die wêreld verwerp word. Ons gaan deur vele verdrukkinge en beproewings in die koninkryk van God in, maar in dit alles is ons meer as oorwinnaars in Hom wat ons liefgehad en sy lewe vir ons afgelê het. Hoewel ons in hierdie bedeling aan die verdrukking en minagting van ‘n goddelose wêreld onderworpe is, is ons nie vir die groot verdrukking bestem nie, want daarin sal die Here almal oordeel wat nie aan Hom behoort nie. As ons nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees, sal ons God behaag deur ‘n lewe te lei wat soos dié van sy Seun is, en gereed wees wanneer die hemelse Bruidegom skielik sal verskyn om ons te kom haal!

Ons is baie naby aan die dag wanneer die ware en valse maagde van die kerkbedeling skielik van mekaar geskei sal word. Dit sal ‘n groot skok vir vormgodsdienstige kerke en teoloë wees wat nie ‘n suiwer verlossingsleer, asook die regte leer oor heiligmaking en die wederkoms, verkondig het nie. Almal wat die hemelse Bruidegom waarlik ken, liefhet en verwag, sal deur sy Gees in die hele waarheid oor sy wederkoms en ons vereniging met Hom gelei word. Wanneer hulle weg is, sal miljoene mense wél deur die Antichris se gees van dwaling beheer en mislei word, maar die eerlike soekers na die waarheid sal in die Bybel kan lees wat werklik gebeur het, en wat hulle op aarde te wagte kan wees. As hulle bereid is om die populêre dwalings van hulle tyd te verwerp en die prys van verwerping en vervolging te betaal, sál hulle nog gered kan word.

 

 

8. Die Verheerlikte Kerk in die Hemel

In die chronologiese raamwerk van die boek Openbaring is dit betekenisvol dat die verheerlikte kerk in die hemel in Openbaring 4 en 5 beskryf word – dit is direk ná die bedeling van die strydende kerk op aarde in Openbaring 2 en 3, en net vóór die openbaring van die Antichris aan die begin van die verdrukking in Openbaring 6.

Onmiddellik ná die basuingeklank van Openbaring 4:1 was Johannes in die Gees in die hemel, waar hy die verheerlikte kerk aangetref het: “En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. En rondom die troon was daar 24 trone, en op die trone het ek die 24 ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad” (Op. 4:2-4). Die ouderlinge sing die Lam toe: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).

Die blote feit dat die ouderlinge uit alle volke op aarde kom, is ‘n bewys daarvan dat hierdie bloedgewaste diensknegte van die Here ‘n groot menigte is. In die Bybelse getalleleer is 24 die getal van verteenwoordiging. In 1 Kronieke 24:3-19 het Dawid al die priesters wat by die tempeldiens betrokke was in 24 groepe, of families, ingedeel wat elk twee weke per jaar tempeldiens verrig het. Die 24 groepe was dus verteenwoordigend van die hele priesterorde in Israel. So ook is die 24 ouderlinge verteenwoordigend van die Nuwe Testamentiese “priesters” wat saam met Christus sal regeer. Johannes gebruik ook hierdie uitdrukking wanneer hy skryf van die Here Jesus “wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader” (Op. 1:5-6; vgl. 1 Pet. 2:9).

Die term “ouderling” word gebruik omdat dit op hulle regterlike en regeringsfunksie dui. Die verheerlikte kinders van die Here sal inderdaad saam met Hom die wêreld oordeel (1 Kor. 6:2) en ook ná sy wederkoms saam met Hom as konings op aarde regeer (Op. 2:26-27). Gedurende die sewe jaar van die verdrukking sal hulle rondom die troon sit en die regverdigheid van die Lam se oordele oor die sondaars bevestig. Daarna sal hulle saam met Hom na die aarde terugkom om hier in die regering van sy vrederyk te deel.

Wegvoering van die gemeente

Die vraag moet nou beantwoord word hoe die kerk in Johannes se visioen na die hemel toe weggeneem is. In Openbaring 2 en 3 was die Christene nog met hulle sterflike liggame as lede van die strydende kerk op aarde, en hierna lees ons nie weer een keer van die gemeente van Jesus Christus op aarde nie. Ons lees wél van gelowiges, maar nie in gemeenteverband nie. Wanneer die gordyn op die hemelse gesig in Openbaring 4 oopskuif, sê Johannes: “Ná hierdie dinge het ek gesien – kyk, ‘n geopende deur in die hemel...” (Op. 4:1). Hier het hy die verheerlikte kerk aangetref, sonder om te sê hoe hulle in die hemel aangekom het.

Daar is reeds in ‘n vroeëre hoofstuk van hierdie boek (Hfst. 3) op die feit gewys dat Openbaring as die laaste Bybelboek in die lig van verskeie beloftes en leerstellings geskryf is wat in voorafgaande Bybelboeke bekendgemaak en bespreek is. Dit was gebruiklik om die Evangelies en sendbriewe van die Nuwe Testament onder die verskillende gemeentes uit te ruil. Paulus sê aan die Kolossense: “En wanneer hierdie brief by julle gelees is, sorg dat dit ook in die gemeente van die Laodicense gelees word en dat julle ook dié uit Laodicea lees” (Kol. 4:16). Die brief aan Laodicea verwys waarskynlik na die brief aan die Efésiërs wat in dieselfde tyd geskryf en na ‘n gemeente naby Laodicea gestuur is. Hierdie briewe moes aan al die heilige broeders voorgelees word (1 Thess. 5:27).

Die gemeentes was dus bewus van die belofte oor die eerste opstanding wat net vir die regverdiges bedoel is, wanneer die ontslape én lewende gelowiges in ‘n oogwink verheerlikte liggame sal kry. Paulus sê: “Die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Kor. 15:51-53). Daarna sal hulle as ‘n verenigde groep weggevoer word, Christus tegemoet in die lug, en saam met Hom na hulle nuwe tuiste in die hemel gaan (1 Thess. 4:16-17; Joh. 14:2-3).

Met die wegraping sal die hemelse Bruidegom sy bruid in die geheim kom haal. Dit sal geestelik in ‘n baie donker tyd van die wêreldgeskiedenis wees wanneer Messiaanse Jode én evangeliese Christene onder die nasies aan verwerping en vervolging weens hulle Bybelse geloof in Jesus onderwerp sal word. In daardie tyd, kort voor die verdrukking, sal die antichristelike gees in die wêreld sterk werksaam wees om die godheid van die Here Jesus te loën, sy opstanding en wederkoms te bevraagteken, die Bybel as die geïnspireerde Woord van God in diskrediet te bring, en ook Bybelse beloftes soos dié oor die wegraping te ontken en as vals voor te stel.

Tydens Jesus se eerste koms was daar ook groot aanvegtinge teen Hom en sy klein groepie ware dissipels. Die nag voor sy kruisiging het Hy egter die volgende gerusstellende belofte aan hulle gemaak: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3).

Hierdie belofte is na analogie van die tradisionele Joodse huweliksgebruike in Bybelse tye gemaak. Die eerste belangrike stap in die Joodse huwelik was die verlowing, wat die sluiting van ‘n huweliksverbond behels het. In die tyd van die Here Jesus was dit gebruiklik dat só ‘n verbond gesluit is op grond van die inisiatief wat deur die voornemende bruidegom geneem is. Vir hierdie doel het hy van sy vaderhuis af na die woning van sy voornemende bruid gereis. Daar het hy met haar vader oor die bruidsprys (mohar) onderhandel wat hy vir haar moes betaal. Nadat die bruidegom die koopprys betaal het, is ‘n huweliksverbond gesluit. Van daardie oomblik af is die bruid as toegewy of geheilig verklaar, en slegs vir haar bruidegom afgesonder. As simbool van die verbond wat tussen hulle gesluit is, het die bruidegom en bruid uit ‘n beker nuwe wyn gedrink waaroor die verlowingseën uitgespreek is.

In die bestudering van die analogie is die eerste stelling wat gemaak moet word, dat die geheiligde kerk van Christus sy bruidsgemeente is (Ef. 5:22-33). Net soos die Joodse bruidegom die inisiatief in die huwelik geneem het deur sy vaderhuis te verlaat en na die woning van sy voornemende bruid te reis, het Jesus tydens sy eerste koms sy vaderhuis verlaat en na die aarde gekom wat die woonplek van sy voornemende bruid is. Hier het Hy deur sy kruisdood die volle prys betaal om sy bruid los te koop sodat sy net aan Hom kan behoort. Paulus sê vir die gemeente: “Julle is duur gekoop” (1 Kor. 6:20), en Petrus bevestig ook dat ons losgekoop is deur die kosbare bloed van die Lam (1 Pet. 1:18-19). In dieselfde nag waarin Jesus die belofte aan die vroeë dissipels gemaak het dat Hy vir ons plek gaan berei, het Hy die Nagmaal ingestel. Hy het die beker met die wyn aan sy dissipels gegee met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed” (1 Kor. 11:25). Dit is ter herinnering aan die vaste en ewige verbintenis wat ons deur sy kruisdood met Hom het.

Soos wat die Joodse bruid verklaar is om heilig en slegs aan haar bruidegom toegewy te wees, moet ons ook voorberei word om vlekkeloos voor Christus te verskyn. Hy het voorsiening hiervoor gemaak: “Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig… sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).

Nadat die huweliksverbond gesluit is, het die bruidegom die woning van die bruid verlaat en na sy vaderhuis teruggekeer. Daar het hy, afgesonderd van sy bruid, vir ‘n jaar lank gebly. Hierdie periode het aan die bruid die geleentheid gegee om haar bruidsuitrusting gereed te kry en haar op die getroude lewe voor te berei. Die bruidegom het homself besig gehou met die inrig van woonkwartiere in sy vader se huis, waarheen hy sy bruid kon bring.

Christus het ook ná sy eerste koms en die betaal van die koopprys vir sy bruid, na sy vaderhuis in die hemel teruggekeer om vir ons plek te gaan berei. In die huidige tyd van afsondering moet ons op die lewe in die hemel voorberei word, getrou aan die Here Jesus bly en die werk doen wat Hy aan ons opgedra het deur die uitnodiging tot lidmaatskap van sy bruidsgemeente ook aan ander mense te rig. Die gevaar bestaan egter dat ons in hierdie tyd deur Satan en die wêreld verlei kan word om ontrou aan Christus te raak en sodoende uit ons heilige verhouding met Hom te verval.

Paulus sê aan die vleeslike Korinthiërs, wat absoluut traag was om die opdrag tot heiligmaking na te streef en uit te leef (1 Kor. 3:1-17), dat hulle as gevolg van daardie houding ontrou sou raak en die wêreldse gees ten prooi sal val: “Ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Kor. 11:2-3). Uit die gelykenis in Mattheus 25 is dit ook duidelik dat vyf van die maagde té min olie in hulle lampe het, wat ‘n aanduiding daarvan is dat hulle nie in die volheid van die Gees gewandel het nie en dus nie waardig is om voor die Bruidegom te verskyn en Hom na sy vaderhuis te vergesel nie.

Aan die einde van die jaar van afsondering het die Joodse bruidegom sy bruid gaan haal om by hom te kom woon. Dit het gewoonlik in die nag gebeur omdat dit ‘n geheime ontmoeting met haar was. Hy het haar buitekant op die pad ontmoet waar sy hom ingewag het, en by hierdie geleentheid het hy homself nie aan die res van haar gesinslede vertoon nie. Hy, sy strooijonker en ander manlike reisgenote het ‘n fakkeloptog na die omgewing van die bruid se huis onderneem. Hoewel die bruid hom aan die einde van die tyd van afsondering verwag het, het sy nie die presiese nag van sy aankoms geken nie. As gevolg hiervan is die bruidegom se aankoms deur ‘n geroep voorafgegaan. Hierdie geroep was ‘n blye boodskap aan die bruid dat die bruidegom gekom het om haar te kom haal (Matt. 25:6). Dan was dit té laat om eers gou voorbereidings vir die ontmoeting met die bruidegom te gaan tref.

Op ‘n soortgelyke wyse sal die hemelse Bruidegom aan die einde van die kerkdispensasie sy bruid in die geheim kom haal. Hy sal haar buitekant die aarde in die lug ontmoet, en Homself nie by hierdie geleentheid aan die res van die wêreld openbaar nie. Sy koms sal ook met ‘n geroep aangekondig word: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18).

Die huisgenote van die bruid het gewoonlik eers die volgende oggend gemerk dat sy en haar vriendinne verdwyn het, en dan besef dat die bruidegom haar daardie nag kom haal het. Hulle het dan as ‘n afsonderlike groep na die huis van die bruidegom vertrek om as genooides die huweliksfees te gaan bywoon.

Wanneer die Messiaanse Jode saam met al die ander lede van Jesus se bruidsgemeente skielik tydens die wegraping verdwyn, sal baie van die Jode besef dat die hemelse Bruidegom hulle kom haal het. Dit sal vir hulle ‘n sterk bewys wees dat Jesus die Messias van Israel en Verlosser van die wêreld is, en op grond daarvan sal daar ‘n groot herlewing in Israel wees waarin 144 000 Jode kort ná die wegraping gered sal word (Op. 7:1-8). Die meerderheid van die volk sal egter geestelik verblind wees en met die valse messias ‘n verbond sluit om sodoende deel van sy “bruid” te word. Dieselfde ontdekking sal ook met ‘n groot skok oral in die wêreld gemaak word, waar dit baie opsigtelik sal wees dat sommige mense spoorloos uit hul huise en van hulle werksplekke af verdwyn het (Matt. 24:40-42; Luk. 17:34-36). Daar sal net een Bybelse verklaring hiervoor wees, en dit is dat die hemelse Bruidegom in die geheim gekom het om sy bruid te kom haal en na haar hemelse woning weg te voer.

Wanneer die Joodse bruidegom en sy geselskap by sy vaderhuis aangekom het, was sy bruid steeds gesluierd en het hy haar na die bruidsvertrek (huppah) geneem waar hulle vir sewe dae lank alleen saam was en die huwelik finaal volvoer is. Intussen het die gaste aangekom en die voltrekking van die huwelik gevier. Ná die sewe dae het die bruidegom sy bruid ongesluierd aan die gaste voorgestel sodat almal haar kon sien. Dit het tot groot blydskap en uitbundige feesviering gelei.

Op ‘n soortgelyke wyse sal die bruid van die Messias ook weggeneem en verborge gehou word op ‘n plek waar die res van die wêreld haar nie kan sien nie. Die sewe dae van die huppa dui profeties op ‘n jaarweek, wat die sewe jaar is wat sal verloop tussen die wegraping en die sigbare openbaring van Christus en sy bruid aan die hele wêreld. Ná die vereniging tussen Christus en sy bruid sal daar inderdaad sewe jaar verloop voordat die bruilofsmaal van die Lam (die onthaal ná die troue) op aarde gevier sal word. Eers moet Hy en sy bruid by sy wederkoms aan die wêreld geopenbaar word: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4). Hierna sal die bruilofsfees plaasvind, waar die oorblyfsel van Israel wat eers tydens die Messias se wederkoms gered sal word, onder die gaste sal wees: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8). Sy sal as die bruid van die Lam met ‘n vlekkelose kleed voor Hom verskyn.

Genadeloon

‘n Ander hoedanigheid waarin die verheerlikte gemeente voorgestel word, is as ouderlinge wat saam met Christus sal regeer. Die 24 ouderlinge in die hemel het almal krone op hul hoofde, wat daarop dui dat hulle by die regterstoel van Christus genadeloon ontvang het (Op. 4:4). Proff. Walvoord en Zuck sê in The Bible Knowledge Commentary, bl. 943, dat hierdie krone, stefanos in Grieks, ooreenstem met dié wat by die Griekse spele aan die oorwinnaars toegeken is, in teenstelling met die koninklike kroon, diadema, wat aan troonopvolgers toegeken is. Die krone van die ouderlinge is dus ‘n aanduiding dat hulle voor die regterstoel van Christus beoordeel en vir getroue diens in sy koninkryk beloon is.

Petrus sê die tyd is daar dat die oordeel in die huis van die Here moet begin (1 Pet. 4:17). Dit verwys na die oordeel oor die werke van gelowiges. Dit is waarom die Here Jesus sê: "Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12). Wanneer die Here kom, kom Hy om sy diensknegte te beloon en die sondaars te straf: “U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Op. 11:18; vgl. Op. 22:12).

Die goue krone wat die verheerlikte kerk sal kry, kom in werklikheid die Lam toe, daarom word dit voor sy voete neergelê: “[toe] val die 24 ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag…” (Op. 4:10-11). Alleen Hy is waardig om die eer te kry vir dit wat sy getroue diensknegte op aarde bereik het. Dit is deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees dat hulle vir die Here Jesus kon werk. Nogtans vra dit veel toewyding, gehoorsaamheid en volharding van hulle kant af, maar die genademiddels om hulle taak op aarde te kan verrig, kom alles van die Here af.

Hoewel die regterstoel-oordeel van Christus nie pertinent in Openbaring bespreek word nie, word dit as gegewe aanvaar, en is dit baie duidelik dat dit direk ná die wegraping sal plaasvind. Aan die martelaarsgemeente van Smirna sê die Here Jesus: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Op. 2:10). Daar is dus ‘n spesifieke kroon wat hulle sal kry. Aan sy getroue getuies in afvallige Thiatire sê Hy: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26). By sy wederkoms sal Hy hulle beloon. Aan die getroues in die dooie Sardis gemeente beloof Hy: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere” (Op. 3:5). Aan sy geliefde diensknegte wat Hom te midde van groot armoede en probleme in Filadélfia dien, sê Hy: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11). Hulle moet daarteen waak om terug te val. Deur hulle volharding moet hulle waardig bly om krone te kan ontvang.

Johannes het voor sy verbanning na Patmos al aan die gemeentes oor die gees van volharding op die pad van die Here geskryf: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie" (1 Joh. 2:28). Dit was toe reeds duidelik dat ernstige probleme en geestelike veragtering in Christelike gemeentes ingetree het. Die tweede geslag Christene was in die meeste gevalle nie meer op die standaard van hulle ouers nie. Sommige van die oueres was egter ook nie oorwinnaars nie en het veragter in die genade (Heb. 12:15). In só ‘n toestand sal hulle hul genadeloon verbeur, daarom Johannes se duidelike vermaning aan hulle: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang” (2 Joh. 1:8).

Die kinders van die Here het onteenseglik ‘n groot verantwoordelikheid om vir Christus se skielike koms en ons verskyning voor sy regterstoel gereed te wees! Hierdie afspraak is in die hemel, onmiddellik ná die afsluiting van die kerkdispensasie deur middel van die wegraping, en direk voordat die verheerlikte kerk met krone op hul hoofde rondom die Here se troon sal vergader.

Die afspraak

Alle Christene het ‘n afspraak voor die regterstoel van Christus, of hulle goeie diensknegte was of nie. Sommige sal loon ontvang, terwyl ander met leë hande daar sal staan. Die feit is dat die Here se diensknegte rekenskap van hulleself sal moet gee. Paulus sê aan die gemeente in Korinthe: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10). Die woord “kwaad” kan ook as “nutteloos” vertaal word. Daar sal baie werke van mense wees wat op dié dag nutteloos sal blyk te wees omdat dit geen ewigheidswaarde het nie. Die Here Jesus sê aan elke gemeente: “Ek ken jou werke…” Hy gaan elkeen volgens sy werke vergeld, of dit goed is of nutteloos. Paulus rig dieselfde boodskap en waarskuwing tot gereedheid aan die Christene in Rome: “…ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word… so sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee" (Rom. 14:10,12).

Paulus verduidelik aan die Korinthiërs in veel meer detail hoe die werke van gelowiges aan God se vuurproef onderwerp sal word om vas te stel of dit die vrug van die Heilige Gees is, en of dit vleeslik is, met ander woorde blote menslike pogings. Dit is duidelik dat ons as medewerkers van God ‘n besliste taak het om in sy koninkryk te verrig, want ons moet ná ons bekering aktiewe lewens lei deur in die geloof op die fondament Jesus Christus te bou. Ons moet egter oppas hoe ons dit doen – nie in die krag van die vlees nie, maar in die krag van die Heilige Gees:

“...elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:8-16).

‘n Paar sake is uit dié gedeelte baie duidelik:

  • Die fondament van bekering, wat die begin van ‘n nuwe lewe in Christus is, moet éérs in ons lewe gelê word voordat ons vir die Here kan begin werk.
  • Ná ons bekering het ons ‘n opdrag om vir die Here te werk deur die lig van ons getuienis in die verdorwe wêreld daarbuite te laat skyn. Ons moet medewerkers van God in die uitbreiding van sy koninkryk op aarde wees.
  • Dit is nie vanselfsprekend dat ons altyd net aanvaarbare werke onder die leiding van die Heilige Gees sal doen nie, omdat ‘n Christen ook nuttelose dinge in die krag van die vlees kan doen (1 Kor. 3:1-3). Hierdie werke is die hout, hooi en stoppels wat nie ewigheidswaarde het nie en vir God se saak niks beteken nie.
  • Aan diegene wat aanhoudend onaanvaarbare werke in die vlees doen, word die vraag gevra: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:16). Hulle moet hulle lewens aan die beheer van die Heilige Gees oorgee en in sy krag die Here dien. Dit is standaard Christenskap en geen menslike pogings kan dit vervang nie.
  • Sommige Christene sal loon ontvang vir dit wat hulle deur die krag van die Gees in die diens van die Here verrig het. Paulus het homself hiervoor beywer: ”...ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is” (1 Kor. 15:10). Die Here het hom hiertoe in staat gestel, maar Paulus moes homself ook hieraan toewy.

Die Here Jesus het in ‘n gelykenis in Lukas 19:11-27 na die dag verwys wanneer sy diensknegte rekenskap van hulle lewens sal moet gee. Hy sê dat Hy aan elkeen van hulle ‘n pond gegee het wat op die instaatstellende krag van die Heilige Gees dui, m.a.w. ‘n godgegewe werksvermoë in sy koninkryk. Wanneer Hy as Koning terugkom, sal Hy heel eerste sy diensknegte ontbied om aan hulle loon toe te ken ooreenkomstig die arbeid wat hulle verrig het. Aan dié een wat met sy pond tien ponde wins verdien het, sal Hy sê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19:17). ‘n Ander een kry gesag oor vyf stede, en die een wat sy pond toegedraai en weggebêre het en gevolglik met leë hande voor sy Heer verskyn, word sterk verwyt omdat hy niks gedoen het nie. Hy kry geen loon nie, alhoewel hy een van sy Heer se diensknegte was.

Krone

Die Here sê dat Hy sy kinders se werke ken, en aan hulle genadeloon sal gee wanneer Hy weer kom. Kort nadat ons met die eerste opstanding en die wegraping ons verheerlikte liggame gekry het, sal ons by die regterstoel van Christus krone vir getroue diens kry. Ons moet onsself beywer om dié werke te doen wat vir die Here behaaglik is en waarvoor Hy aan ons krone sal gee. Dan weet ons dat ons lewe op aarde nie tevergeefs was nie, maar deur die krag van die Heilige Gees werke opgelewer het wat ewigheidswaarde het. Ons sal dan die stem van die Here hoor wat sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou Heer” (Matt. 25:21).

Die volgende krone word aan die oorwinnaars beloof:

Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige lewe. Heiligmaking verwys na hartsreiniging, vervulling met die Heilige Gees en afsondering vir diens. Paulus sê: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). As gereinigde instrumente moet ons onsself onvoorwaardelik in die diens van die Here stel. “Elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles – hulle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike” (1 Kor. 9:25). Beywer jy jouself om die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewe te kry? Paulus het dit konsekwent gedoen en sê ook vir die gemeente: “...wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie” (1 Kor. 15:58).

Die kroon van roem vir sielewenners. Die groot taak wat Christus aan sy dissipels opgedra het, is dié van wêreldevangelisasie. Toe Hy ná sy opstanding in die bovertrek aan die dissipels verskyn het, het Jesus gesê: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Later het Hy die opdrag aan hulle herhaal: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Mark. 16:15). Maklik sou dit beslis nie wees om die boodskap van die Here Jesus se reddende genade aan ‘n vyandige wêreld te verkondig nie, daarom het die Here die krag van die Heilige Gees aan sy dissipels belowe: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Vir diegene wat ander mense na Christus toe lei, word die kroon van roem beloof. Paulus sê aan die Thessalonicense: “Wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms?” (1 Thess. 2:19). So ook sal alle ander mense wat verlore siele na die Verlosser toe lei, die kroon van roem voor die regterstoel ontvang.

Die kroon van heerlikheid vir getroue herders. Die geestelike versorging en opbouing van die gemeente is ‘n baie belangrike aspek van Christelike dienswerk wat deur die Here self bepaal is: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang" (1 Pet. 5:2-4). Herders moet seker maak dat hulle die werk van die Here met die regte gesindheid van nederigheid en diensbaarheid doen, en nie ter wille van hulle eie belangrikheid en selfverryking nie. Hulle moet in alle opsigte voorbeelde vir die kudde wees as hulle eendag vir hulle werk beloon wil word.

Die kroon van die lewe vir Christen-martelare. Aan elkeen wat sy lewe ter wille van sy geloof aflê, word die kroon van die lewe beloof. Die Here sê vir die martelare: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Op. 2:10). Deur die eeue heen was daar getroue diensknegte van die Here Jesus wat bereid was om ten koste van hulle veiligheid, hulle werk, hulle gesinne, en selfs hulle eie lewe, die vlam van geloof in ‘n vyandige wêreld omhoog te hou. Hulle het die volle implikasies van Christus se woorde besef toe Hy gesê het: “Kyk, Ek stuur julle soos lammers onder die wolwe” (Luk. 10:3). Ook het Hy gesê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê” (Joh. 16:33; vgl. 1 Thess. 3:3-4). Hoe ís Christene die afgelope byna 2000 jaar nie op verskillende maniere vervolg, verdryf, bespot, geïntimideer en in strafkampe gemartel nie, terwyl miljoene die hoogste prys vir hulle geloof betaal het. Die Here sal hulle spesiaal beloon. By die kategorie van martelare is ook ingesluit diegene wat ‘n swaar kruis van beproewing in hulle lewe moes dra. Volgens Jakobus 1:12 sal hulle beloon word as hulle getrou bly. Daar is baie mense wat gestrem is, of gestremde kinders het, wat siek of verlam is, wat onderdruk, misken of verwerp word, of wat dalk werkloos, arm, honger of sonder huisvesting is. Hulle word almal bemoedig om die geloof te behou en op hulle moeilike weg te volhard. Sommige van hulle kry uitkoms in hierdie lewe en ander nie. Die hoofsaak is dat hulle tot die einde toe getrou moet bly en wag op die volmaaktheid wat ons eendag in die hemel sal kry (2 Kor. 4:16-18; Heb. 11:35).

Die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefhet. Om die Here se koms te kan liefhê, vereis ‘n ingesteldheid op dinge met ewigheidswaarde. Jy moet skatte in die hemel bymekaarmaak waar mot of roes nie verniel en waar diewe nie inbreek en steel nie. As jy sê dat jy werklik die Here Jesus se koms liefhet, dan sê jy dat Hy jou Koning is, dat jy by die vestiging en uitbreiding van sy koninkryk betrokke is, en dat jy uitsien na die dag wanneer Hy as Koning geopenbaar sal word. Intussen is jy ‘n vreemdeling en ‘n bywoner op aarde omdat jou ewige tuiste nie hier is nie. Paulus het die goeie stryd van die geloof gestry terwyl hy die koninkryk van Christus in ‘n heidenwêreld verkondig het. Kort voordat hy as gevolg van sy geloof tereggestel is, het hy opnuut sy sterk verwagting op die koms van Jesus en sy koninkryk van geregtigheid uitgespreek: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het" (2 Tim. 4:7-8). “Dié dag” verwys na die dag van die Here wat in die komende verdrukking sal aanbreek wanneer Hy as Regter van sy dissipels én van die goddelose wêreld geopenbaar sal word.

Nadat die verheerlikte kinders van die Here hulle krone ontvang het, sal hulle rondom die troon van die Lam hulle plekke inneem om saam met Hom die aarde in geregtigheid te oordeel. Dan sal die sewe seëls van die boekrol van God se oordele in die hemel oopgemaak word, en sal die Antichris skielik as ‘n valse vredevors op die toneel verskyn. Hy sal homself met groot misleiding openbaar en wêreldwyd as ‘n valse diplomaat en vredevors aanvaar word omdat sy teëhouer dan weg sal wees.

Die boekrol met God se oordele

Van sy troonposisie af gaan Christus ‘n sondige wêreld oordeel. Dit sluit die ongelowige Joodse volk, sowel as ongelowiges uit alle ander volke in. Die Here Jesus wat die wêreld gemaak het, is by sy eerste koms deur sy eie volk, Israel, verwerp. Daarna is Hy ook deur die meerderheid lede van die heidense nasies verwerp: “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie... En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Joh. 1:9-11; 3:19).

In die donker dae net voor sy wederkoms gaan die Here Jesus rekenskap van ‘n ongelowige mensdom opeis. Wanneer die oordele oor die wêreld kom, sal die mense weet dat dit is omdat hulle Christus verwerp het. Hulle sal dan tevergeefs na die berge en kranse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

Dit was die gebruik in Israel om die bemaking van eiendom in ‘n boekrol op te skryf, en elke keer nadat sekere inskrywings gemaak is, is die betrokke deel verseël. Die testament waarin die erfreg en heerskappy oor die aarde beskryf word, is met sewe seëls verseël. Christus alleen is waardig om die testament se seëls oop te maak. Hy is nie alleen die wettige eienaar van die aarde en sy mense nie, maar het ook al die skuld betaal wat uit Satan se berowing van die menslike beheer oor die eiendom voortgespruit het. Wanneer die seëls een vir een in die hemel oopgemaak word, sal die geweldigste oordele van alle tye oor die aarde uitgestort word. Hierdeur sal ‘n sondige mensdom tot verantwoording geroep word en die mag van Satan en sy trawante stelselmatig afgebreek word totdat daar niks van sal oorbly nie.

Die ouderlinge in die hemel kyk in afwagting toe vir die oopmaak van die eerste seël van God se oordele. Wanneer hierdie seël oopgemaak word, sal die Antichris skielik sy verskyning op aarde maak, waarna die dramatiese gebeure van Openbaring 6 ‘n aanvang sal neem. Die kerk van Christus sal dan saam met Hom rondom sy troon wees en telkens die regverdigheid van sy oordele oor ‘n goddelose wêreld bevestig. Die donker tyd van die Lam se toorn sal die voorspel tot sy verskyning in heerlikheid wees wanneer Hy as Koning van die konings op aarde sal regeer.

 

9. Die Antichris

Die gebeure wat in Openbaring 6 tot 19 beskryf is, speel almal binne die tydsbestek van slegs sewe jaar af. Uit Israel se oogpunt staan hierdie tyd as die “sewentigste jaarweek” bekend, soos in Daniël 9:24-27 beskryf is. In die Nuwe Testament word dit die “verdrukking” en die “groot verdrukking” genoem (Matt. 24:21,29; Op. 7:14). Dié sewe jaar word in twee helftes van 3½ jaar (42 maande of 1 260 dae) elk verdeel, soos onder meer uit Daniël 9:27, Openbaring 11:2-3, 12:6 en 13:5 blyk.

Die eerste helfte van die verdrukking sal deur 'n valse vrede, asook deur politieke, maatskaplike, ekonomiese en godsdienstige inisiatiewe vir die vereniging van die mensdom onder die leierskap van die Antichris gekenmerk word. Wanneer sy vredes- en eenheidspogings egter misluk, sal hy hom in die oorblywende 3½ jaar tot die ongeëwenaarde gebruik van geweld wend en sodoende die bloedigste diktatuur instel wat die wêreld nóg geken het. Die honderde miljoene slagoffers wat sy bewind van terreur sal eis, sal daarvan die grootste menseslagting van alle tye maak.

Die twee helftes van die verdrukking kan van mekaar onderskei word deur daarna as die tyd van “valse vrede” en die “groot verdrukking” te verwys. Dit is verkieslik om van die hele sewe jaar slegs as die “verdrukking” te praat, omdat in werklikheid net die laaste 3½ jaar daarvan die “groot verdrukking” is. In die eerste 3½ jaar sal die mense op aarde deur die Antichris en die valse profeet geestelik en polities verslaaf en geïntimideer word, maar in die laaste 3½ jaar fisies verdruk en verdelg word.

Vier ruiters

Volgens Openbaring 6:1-8 gaan die Antichris op 'n heel besondere wyse, as die ruiter op vier verskillende perde, geopenbaar word in sy poging om die mensdom eers deur misleiding en dan deur 'n genadelose diktatuur onder sy beheer te kry:

Die wit perd: In die eerste helfte van sy bewind sal hy as 'n vredevors en die gemeenskaplike messias van alle gelowe op die wêreldtoneel verskyn. Wanneer dit gebeur, sal die Here Jesus op sy troon in die hemel sit en die seëls van God se oordele oor die wêreld oopmaak, waarna sekere dramatiese dinge op die aarde sal gebeur. Johannes sê: "En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak... en kyk, daar was 'n wit perd. En hy wat daarop sit, het 'n boog; en aan hom is 'n kroon gegee, en hy het uitgegaan as 'n oorwinnaar en om te oorwin" (Op. 6:1-2).  Hy het slegs 'n boog in sy hand en versteek doelbewustelik die pyle omdat sy aanvanklike optrede in die teken van vrede en versoening sal staan. In hierdie stadium sal sy internasionale weermag as ‘n “vredesmag” bekend staan. Die Antichris se verskyning en magsoorname word deur die teenwoordigheid van Christus se gemeente op aarde verhinder. Nadat die Here Jesus hulle kom haal het, sal die uur van totale duisternis in die wêreld aanbreek. Dit sal aan die Antichris die geleentheid bied om na vore te tree en sy septer oor 'n sataniese nuwe wêreldorde te swaai, totdat hy sewe jaar later by die wederkoms van Christus verdelg sal word.

Die rooi perd: Wanneer dit 3½ jaar later sal blyk dat die Antichris se eenheidshervormings en sosialistiese wêreldregering misluk en rebellie teen sy bewind gestig word, sal hy homself tot geweld wend om sy posisie te handhaaf en daardeur 'n militêre diktator te word: "En 'n ander perd, 'n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en 'n groot swaard is aan hom gegee" (Op. 6:4). Leiers wat begin wankel en hulle populêre steun verloor, wend hulle dikwels tot geweld en outokratiese optrede om hulle magsposisie te probeer handhaaf. Die Antichris sal geen uitsondering wees nie. In die middel van die verdrukking sal daar 'n suksesvolle sluipmoordaanslag op hom uitgevoer word. Op 'n wonderbaarlike wyse, deur die bemiddeling van die valse profeet met sy duiwelse magte, sal hy uit die dood opstaan en die wêreld dan as alleenheerser en militêre diktator beheer (Op. 13:3,14). Van hierdie oomblik af sal hy met 'n ystervuis regeer.

Die swart perd: Streng ekonomiese beheer en rantsoenering sal tydens die oorlogstoestande en hongersnode ingestel word: "En ek het gesien, en kyk, daar was 'n swart perd; en hy wat daarop sit, het 'n skaal in sy hand..." (Op. 6:5). Die noodwendige gevolg van oorloë en die mobilisasie van ekonomies aktiewe mans is die vinnige uitputting van 'n land se geldvoorraad weens militêre uitgawes, die verwoesting van infrastruktuurdienste, ernstige produksieverlies en hongersnood. In 'n poging om hierdie probleme op te los, sal die Antichris streng ekonomiese maatreëls instel en deur middel van 'n gerekenariseerde kontrolestelsel alle finansiële transaksies op aarde beheer. Rantsoenering en beheerde verspreiding sal onafwendbaar wees omdat lewensmiddele weens die oorlogstoestande, omgewingsbesoedeling, natuurrampe en die oorbenutting van hulpbronne baie skaars sal wees. Die Antichris sal hierdie geleentheid gebruik om sy posisie van absolute heerskappy te versterk, want slegs sy lojale volgelinge sal ekonomiese voorregte in sy ryk geniet.

Die vaal perd: Hierna bly daar nog net een hoedanigheid vir die Antichris oor, en dit is om as die doodsengel soveel as moontlik mense af te maai en saam met hom na die verderf te sleep: "En ek het gesien, en kyk, daar was 'n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg" (Op. 6:8). Omdat die Antichris van die duiwel af uitgegaan het sal hy, soos sy vader, ook 'n mensemoordenaar wees. Hy sal homself in die dood van miljoene mense verlustig en ook niks daarvan dink om God se skeppingswerk op aarde te verwoes nie. Daniël sê van die Antichris: "Op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees" (Dan. 9:27). Dit beteken letterlik: "Onder die vaandel van verderflike afgodediens sal daar een wees wat puinhope maak." Dit is presies wat hierdie gevoellose diktator sal doen. Hy sal deur sy voortgesette oorlogvoering menselewens verwoes en gaandeweg die hele aarde in 'n verlate en onbewoonbare puinhoop omskep. Oor hierdie toneel van absolute verwoesting sal die makabere profiel van die ruiter op die vaal perd opdoem. Openbaring 6:8 sê dat hy en sy medewerkers alleen vir die dood van 'n kwart van die aarde se inwoners verantwoordelik sal wees. In die huidige wêreldbevolking van net meer as 6 miljard mense beteken dit dat dié tiran vir die dood van 1,5 miljard mense sal sorg. Dit is byna 30 keer meer as Wêreldoorlog II se dodetal van 52 miljoen! Inderdaad ‘n tyd van verdelging sonder gelyke.

Identiteit van die Antichris

In Openbaring 13:1-2 word meer besonderhede oor die identiteit en rol van die Antichris gegee. Hy word as 'n dier met sewe koppe en tien horings voorgestel. Die sewe koppe stel sewe wêreldryke voor wat almal in opposisie teen God en sy ewige koninkryk is. Hulle is dus magsbasisse vir Satan in die uitbreiding van sy koninkryk. Daar was volgens die Bybel reeds ses sulke wêreldregerings. In almal van hulle het die leiers hulle politieke, godsdienstige én ekonomiese mag op al hulle onderdane afgedwing en daardeur hulle vryheid van keuse heeltemal weggeneem. Dit sal ook die geval in die sewende wêreldryk van die Antichris wees.

1.      Die eerste wêreldryk was die Babiloniese ryk van Nimrod met sy hoofstad, Babilon, teenaan die Eufraatrivier in die huidige Irak. Hierdie ryk het ander volke aan sy gesag onderwerp, hulle ekonomies beheer en eenheidshervormings soos die verpligte gebruik van dieselfde taal ingestel. Babilon was ook die tuiste van valse godsdienste waar die songod, die hemelgodin en ‘n groot aantal mindere gode vereer is.

2.      Die tweede wêreldryk was die Assiriese ryk wat ook in die gebied van die huidige Irak en Sirië gevestig was. Die onderwerping en onderdrukking van volke is ook hier beoefen en afgodediens oral verpligtend gemaak. Hulle vyandskap teen die koninkryk van God blyk verder uit die feit dat hulle die tienstammeryk van Israel in die agtste eeu v.C. verower en baie lede van dié volk as ballinge na Assirië weggevoer het.

3.      Die derde wêreldryk was die herstelde Babiloniese ryk van Nebukadnésar. Hulle het die Assiriërs onderwerp en ook teen God se volk geveg deur Jerusalem in te val, te verwoes en duisende Jode as ballinge na Babel weg te voer. Die verpligte aanbidding van Nebukadnésar se afgodsbeeld is goed bekend, asook die feit dat almal wat sou weier om dit te doen, deur verbranding in ‘n vuuroond tereggestel is.

4.      Die vierde wêreldryk was die Medo-Persiese ryk wat die Babiloniërs oorwin en onderwerp het. In dié ryk is ‘n onbuigbare, diktatoriale regeringstelsel gevolg en deur middel van die onherroeplike wette van die Meders en Perse regeer. Vyandskap teen God se volk het na ‘n gepoogde Joodse volksmoord gelei.

5.      Die vyfde wêreldryk was die Griekse ryk wat diep by die aanbidding van afgode betrokke was en ook die Jode by hulle politeïsme probeer indwing het. Hulle krygsvernuf was gevrees omdat hulle vinnig en doeltreffend met hulle snelontplooiingstaakmagte toegeslaan het.

6.      Die sesde wêreldryk was die Romeinse ryk waarin verskeie van die keisers hulleself openlik vergoddelik en aanbidding deur hulle onderdane geëis het. Keiser Nero het besluit om die volk Israel uit te wis en het vir dié doel ‘n groot militêre mag na Israel gestuur. Hierdie taak is eers ná Nero se dood uitgevoer toe Jerusalem in die jaar 70 n.C. verwoes, meer as ‘n miljoen Jode om die lewe gebring en duisende as krygsgevangenes weggevoer is.

7.      Die sewende wêreldryk sal die eindtydse ryk van die Antichris wees, wat sewe jaar lank oor die wêreld sal regeer. Hy sal al die slegste eienskappe van die vorige wêreldryke in sy ryk laat herleef, ‘n militêre diktatuur instel, homself vergoddelik, mense laat teregstel wat weier om hom of sy beeld te aanbid, en dan ook ‘n Joodse volksmoord gelas wanneer Israel in die middel van die verdrukking hulle verbond met hom sal verbreek.

Net so werklik as wat die vorige ses wêreldryke bestaan het, sal die sewende ryk van die Antichris ook wees. Die noue verband tussen die Antichris se eindtydse ryk en die vorige wêreldryke blyk ook uit die feit dat hy as ‘n dier met die lyf van ‘n luiperd, die pote van ‘n beer, die bek van ‘n leeu en ‘n kop met tien horings daarop voorgestel word (Op. 13:2). Hierdie simboliek stem met dié in Daniël 7 ooreen waarin die Babiloniese ryk as ‘n leeu, die Medo-Persiese ryk as ‘n beer, die Griekse ryk as ‘n luiperd en die Romeinse ryk as ‘n wreedaardige dier met tien horings op sy kop voorgestel word. Dit beteken dat kenmerke van al hierdie ryke in die Antichris en sy eindtydse ryk sal herleef – dit sal dus nie net ‘n herleefde Romeinse ryk wees nie, maar ook ‘n herlewing van al die slegte eienskappe van die Babiloniese, Medo-Persiese en Griekse ryke.

Die Antichris sal die Babiloniese tradisie van die vergoddeliking van die koning volg. Hy sal homself bo elke god verhef en ook die gesag van die God van die hemel uitdaag. Hy sal 'n beeld van homself laat maak en alle onderdane van sy wêreldryk dwing om in aanbidding voor die beeld neer te buig. Elkeen wat 'n ander god vereer en sou weier om die koning se beeld te aanbid, sal tereggestel word. Hy sal ook, soos Nebukadnésar, Jerusalem beleër, die Joodse regeringsleiers om die lewe bring en die volk verdryf en verstrooi. Soos in die Medo-Persiese ryk, sal die dier die volke van die aarde onder sy pote vertrap, hulle regerings afskaf en hulle onderdane by sy wêreldryk inlyf. Hy sal militêre dekrete uitvaardig en deur middel van die onherroeplike wette van die Meders en die Perse regeer. Hy sal ook, soos koning Ahasveros van ouds, 'n Joodse volksmoord in sy hele koninkryk gelas. Hy sal die Griekse ryk se afgodediens laat herleef en, soos baie keisers in die Romeinse ryk, homself tot God verklaar. Al hierdie ryke deel die gemeenskaplike kenmerk dat hulle vyandig teen die koninkryk van God was.

Die tien horings van die dier is op sy sewende kop, wat die Romeinse ryk voorstel. Die ou Romeinse ryk het uit tien koninkryke (of provinsies) bestaan wat rondom die Middellandse See was. Hulle was in die Britse Eilande, die suidelike dele van Wes- en Oos-Europa, die Midde-Ooste en Noord-Afrika geleë. Uit die herlewing van hierdie Mediterreense ryk sal in die eindtyd tien bondgenote van die Antichris kom wat saam met hom sal regeer (Op. 17:12-13). Die tien horings van die dier stem met die tien tone van die beeld in Daniël 2 ooreen: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie” (Dan. 2:44). Dit sal die Messias se “rotskoninkryk” wees wat al die menslike koninkryke sal vernietig, vervang en self in hulle plek sal regeer (Dan. 2:35; vgl. Ps. 2:7-9; Op.11:15).

Opeenvolging van wêreldryke

In Openbaring 17:9-12 is verdere inligting wat ons help om die simboliek van die dier met die sewe koppe te kan verklaar: "Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; en die ander het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly. En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf" (Op. 17:9-11).

Die eerste gevolgtrekking wat ons hier moet maak, is dat Johannes nie na die sewe berge van Rome verwys nie, en dus nie 'n profesie uitgespreek het wat slegs op die Rooms-Katolieke Kerk betrekking het nie. Hy sê dat die sewe berge sewe goddelose konings (of koninkryke) is wat mekaar chronologies in die wêreldgeskiedenis opvolg. Ons weet ook dat hy nie na Romeinse keisers verwys nie, omdat daar tussen Nero en Konstantyn alleen tien antichristelike keisers aan die bewind was. Nee, die Here gee vir ons hier 'n breë perspektief op sewe wêreldryke wat almal vestings vir heidense gelowe was (en sal wees) en dus in openlike rebellie teen die koninkryk van God is.

In Openbaring 17:10 sê Johannes duidelik dat in sy tyd vyf van hierdie koninkryke reeds geval het, die een was aan bewind en die sewende een moes nog kom. In die jaar 95 n.C. toe die boek Openbaring geskryf is, het vyf van dié ryke reeds geval – dit is van die oud-Babiloniese ryk af tot by die Griekse ryk; die Romeinse ryk was bestaande en die eindtydse ryk van die Antichris nog toekomstig. Die laaste ryk word deur die sewende kop met die tien horings voorgestel.

Dit is belangrik om die korporatiewe karakter en samehorigheid van hierdie sewe wêreldryke raak te sien: dit is een dier met sewe koppe. Hulle is almal deurtrek van dieselfde gees van verderflike humanisme, selfvergoddeliking, sondigheid, gewelddadigheid, rebellie teen die lewende God, asook betrokkenheid by die werke van die duisternis. Hulle is dus almal vestings van valse godsdienste en as sodanig 'n sataniese komplot teen die koninkryk van God en die stad van die groot Koning, Jerusalem. Die Antichris se eindtydse ryk moet as voortvloeiend uit die vorige ses ryke gesien word. Dit is wesenlik deel van dieselfde godsdienstige en politieke rebellie wat al vir duisende jare deur Satan gevoer word, en deur hom gebruik word om die koninkryk van God op aarde te probeer vernietig. Sy einddoel is om oor God se skepping te heers en in sy plek as God aanbid te word. Onderweg na die bereiking van hierdie ideaal sal alle moontlike vorms van misleiding, omkopery, dwang, onderdrukking en militêre geweld gebruik word wat hy vir sy doel nuttig vind en wat hy kan slaag om te monster. Die Antichris se groot aanslag sal die kulminasie van die eeue-oue stryd tussen die godsryk en die satansryk wees.

Openbaring 17:11 sê dat die Antichris nie net by die sewe wêreldkoninkryke behoort nie, maar dat sy regering ook in ‘n agtste wêreldryk sal ontwikkel. Eers sal hy saam met ander konings aan die hoof van 'n regering van internasionale eenheid staan en daarna, in die tweede helfte van die verdrukking, 'n militêre diktatuur instel waarin hy in 'n driemanregering saam met die draak en die valse profeet oor die aarde sal heers.

Die Antichris se ryk sal veral sterk Babiloniese eienskappe vertoon. Om hierdie rede is dit verkeerd om net na Wes-Europa as die herstelde Romeinse ryk te kyk en te beweer dat die Antichris uit Rome, Engeland of Frankryk moet kom. Sy oorsprong sal uit 'n land wees wat deel van al hierdie ryke was, naamlik uit die gebied van “die koning van die Noorde” (Dan. 11:36-45). Dit is noord-noordoos van Israel geleë en was in verskillende tye in die geskiedenis as Babilonië, Assirië en Sirië bekend. Huidiglik is dié gebied as Sirië en Irak bekend, maar die hartland daarvan is in Irak. Dit is ook waar die stad Babilon geleë is, wat weer gedeeltelik herbou is. Die boek Daniël is van groot hulp om die Antichris se land van oorsprong vas te stel, en sodoende onnodige spekulasie te vermy:

  • Eers word hy as een uit tien voorgestel (Dan. 7:7-8), wat een van tien lande in die ou Romeinse ryk is. Die Siriese provinsie (wat die huidige Irak insluit) was deel van dié ryk.
  • Daarna word hy as een uit vier voorgestel, wat die vier provinsies in die verdeelde Griekse ryk is (Dan. 8:8-9). Sirië (wat die huidige Irak ingesluit het) was een van dié vier provinsies. Die Griekse ryk het nie Wes-Europese lande soos Italië, Frankryk, Engeland en België ingesluit nie, gevolglik kan die Antichris nie uit dié lande kom nie.
  • Uiteindelik word hy as een uit twee voorgestel, wat die gebiede van die koning van die Noorde en die koning van die Suide in die verdeelde Griekse ryk ná Alexander die Grote was (Dan. 11). Die noordelike provinsie was Sirië en die suidelike een Egipte. Die historiese stryd tussen hulle word in Daniël 11:2-35 beskryf, en die eindtydse koning van die Noorde (die Antichris) in Daniël 11:36-45. Hy sal dus uit Sirië of Irak kom.

In Jesaja 10 is ook 'n duidelike profesie oor die herstelde Assiriese ryk van die eindtyd. Dit word binne die konteks van “die dag van die Here” geplaas (Jes. 10:20), en die Antichris as die koning van Assirië voorgestel: "Maar as die Here sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë. Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos 'n maghebber neergewerp. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na 'n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos 'n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat 'n vlerk verroer of 'n bek oopgemaak of gepiep het nie" (Jes. 10:12-14). Sy magsoorname sal vinnig en sonder teëstand geskied.

Die Antichris sal sonder enige moeite die grense tussen die volke verwyder ten einde sy beleid van internasionalisering deur te voer, en ook maklik beheer oor die wêreldekonomie verkry. Hiertoe sal hy die volle samewerking van die totaal misleide en insiglose politieke leiers van sy ryk hê: "En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier" (Op. 17:12-13). Israel én die hele wêreld sal egter deur die Here se ingryping by sy wederkoms van die eindtydse Assiriër en sy wêreldmag se skrikbewind verlos word (Jes. 10:23-25; Miga 5:4-6).

Magsbasisse van die Antichris

Volgens Openbaring 13 sal die Antichris drie magsbasisse hê waarop hy sy onderdrukkende diktatuur sal baseer: dit is ‘n politieke, ‘n ekonomiese én ‘n godsdienstige magsbasis. Politieke en militêre mag sal saam gebruik word om sy wêreldregering se beleid op alle lande af te dwing: “Aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Hierdie mag sal van Satan af kom, wat nou reeds ‘n groot mate van beheer oor ‘n verdorwe wêreld het wat in geestelike duisternis verkeer (Op. 13:2; 1 Joh. 5:19). Ná die wegraping sal hierdie mag sonder teëstand funksioneer en in die Antichris verpersoonlik word (2 Thess. 2:7-10). Die hele misleide wêreld sal hom in verwondering navolg en sê: “Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:3-4).

Ekonomiese mag sal gebruik word om ‘n kontantlose ekonomie in te stel en aan alle ekonomies aktiewe mense op aarde nommers toe te ken waarsonder hulle nie sal kan koop of verkoop nie (Op. 13:16-18). Hierdie nommer sal ‘n eed van getrouheid aan die Antichris insluit, waardeur mense hulle siele aan Satan sal verkoop in ruil vir die reg om te kan koop en verkoop. Hiervoor sal hulle vir ewig in die hel boet (Op. 14:9-11).

Godsdienstige mag sal gebruik word om mense te dwing om die Antichris as God te aanbid. Nadat hy 3½ jaar lank as messias aanbid is, sal hy homself in die herboude tempel tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Almal wat sal weier om hom as God te aanbid, sal summier tereggestel word (Op. 13:15).

Voorbereidings vir hierdie toekomstige wêreldregering is reeds ver gevorderd. Die afgelope aantal jare was daar ‘n baie aktiewe internasionaliseringsproses op die politieke, godsdienstige én ekonomiese terreine aan die gang. Dit is vir alle Christene van die grootste belang om hiervan kennis te neem, omdat dit deel van ‘n sataniese komplot teen die koninkryk van God én die vryheid van die nasies is. Hoewel weergebore Christene nie hier sal wees wanneer die Antichris geopenbaar word nie, moet ons nogtans aktief by die teëstaan en verwerping van sy ideologie van politieke, godsdienstige en ekonomiese globalisme betrokke wees. Die Here Jesus verwag van sy getroue dissipels om ‘n openbare standpunt teen die antichristelike globalisme in te neem en sodoende die opmars van die Antichris teë te staan. Dit is die rede waarom sy dissipels teëhouers van die Antichris genoem word (2 Thess. 2:6-8).

Indien jy onder diegene sal wees wat agterbly en in daardie tyd jou saak met die Here regmaak, sal jy die Antichris, sy regeringstelsel, sy valse wêreldgodsdiens, sy eis van persoonlike aanbidding én die aanbod van sy nommerstelsel volkome moet verwerp, ongeag die haglike ekonomiese gevolge en vervolging wat dit vir jou sal meebring. Vir diegene wat 'n eed van getrouheid aan die Antichris aflê, sy nommer aanvaar en hom aanbid, wag die ewige oordele van God: "As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie – hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang" (Op. 14:9-11).

Op die dag van Christus se wederkoms sal die Antichris se sewe jaar lange bewind skielik tot ‘n einde kom. Die Here Jesus is die ware Vredevors op ‘n wit perd, en sal tydens sy wederkoms deur hemelse leërs gevolg word. Johannes sê: “En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit” (Op. 19:19-21). Die kortstondige ryk van die Antichris sal totaal vernietig en deur die duisendjarige vrederyk van die ware Christus gevolg word.

Dit is ‘n skrikwekkende gedagte dat die Antichris nogtans daarin sal slaag om feitlik die hele wêreldbevolking te mislei en saam met hom verderf toe te sleep. Die Bybel sê: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk?” (Op. 13:3-4). Net soos wat die geestelik verblinde Israeliete kort ná die Here se magtige verlossingsdaad tydens hulle uittog uit Egipte in die woestyn voor ‘n goue kalf neergebuig en dit aanbid het, sal die eindtydse wêreldbevolking ook kort na die Here se kragtige ingryping vir die verlossing van die regverdiges tydens die wegraping, voor die Antichris neerbuig en hom aanbid. Wandel jy in die waarheid van die Here Jesus, of is die Antichris se gees van dwaling reeds in jou werksaam? (2 Thess. 2:7).

Mense wat nie deur die Heilige Gees in die hele waarheid van God se Woord gelei word nie (Joh. 16:13), al is hulle andersins ook hóé intelligent en belese, sal volgens die insig van hulle verdorwe harte optree en uiteindelik die krag van die dwaling ontvang om die Antichris se leuens te glo (2 Thess. 2:10-12). Kom nóú na die Verlosser, Jesus Christus, wat jou van die mag en invloed van Satan se antichristelike leuens sal bevry, en aan jou verligte oë van die verstand sal gee om sy Woord te kan verstaan (Ef. 1:18). Deur sy Gees en die kennis van sy Woord sal Hy ook aan jou die vermoë gee om die leuens van valse profete wat voorlopers van die Antichris is, te kan identifiseer en weerstaan (1 Joh. 4:1).

 

10. Die Valse Profeet

Die valse profeet sal ‘n groot rol in die regering van die Antichris speel. Uiterlik gesproke sal dit ‘n tweemanregering wees omdat die Antichris in noue assosiasie met die valse profeet sal optree en regeer. In werklikheid sal dit ‘n driemanregering wees, omdat die duiwel as ‘n geestelike mag absolute beheer oor hierdie regering sal uitoefen. Dit sal dus ‘n sataniese driemanskap wees. As sodanig sal dit ‘n nabootsing van God se regering wees, omdat die draak die teëbeeld van God is, die dier is die teëbeeld van Christus en die valse profeet die teëbeeld van die Heilige Gees.

Die Bybel sê die volgende oor die openbaring van die valse profeet: “En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. En hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Op. 13:11-13).

Die valse profeet sal ‘n ander dier wees, uit dieselfde koninkryk as wat die eerste dier kom. Hy sal net ‘n ander een van dieselfde soort as die eerste dier wees. Hy sal lyk soos ‘n lam maar praat soos ‘n draak. Hy sal dus ‘n onskuldige voorkoms hê, soos ‘n godsdiensleier wat homself ten doel stel om die wêreld te verenig en in ‘n tydperk van vrede in te lei. Wanneer hy praat, sal dit egter baie duidelik wees dat hy oor al die misleidingsmag en bonatuurlike krag van die draak beskik. Een van sy skouspelagtigste wonderwerke sal wees dat die Antichris in die middel van die verdrukking uit die dood opgewek sal word nadat hy vermoor is (Op. 13:3,12).

Die valse profeet sal totaal onverdraagsaam teenoor die ware Christene wees en lasterlike dinge oor hulle sê. Hy sal die dier ten koste van Christus verheerlik en die wêreld deur middel van sy wonderwerke verbyster. Soos die Antichris, sal hy deur sy duiwelse slimheid met geluk bedrog pleeg (Dan. 8:25). Onder sy invloed sal mense se oordeelsvermoë deur die god van hierdie wêreld verblind word sodat hulle die waarheid nie kan insien nie (2 Kor. 4:4).

Volgens Openbaring 13:11-18 sal die valse profeet die Antichris se staatmaker en regterhand in sy regering wees. Satan weet dat twee beter is as een. Die valse profeet sal die Antichris aanprys en ophemel, met die gevolg dat mense soveel makliker agter hom sal aanloop. Massamedia soos die radio, televisie, die pers en internet sal tot hulle uiterste aangewend word omdat die valse profeet as die Antichris se hoofpropagandis alles in die stryd sal werp om die mense te beïnvloed en te mislei. Hy sal alle breinkrag, kennis en hulpmiddels soos onderwysstelsels en die vermaaklikheidswêreld inspan om die Antichris se beeld verder te bevorder, en hom as die wêreldmessias en oplossing vir alle probleme van verdeeldheid en leierloosheid voor te hou. Almal sal verwonderd oor hom wees.

Valse kerke, insluitende die ekumeniese Christendom, sal as ‘n belangrike wapen in sy hand gebruik word. Die valse profeet sal aanvanklik dus nie godsdiens verbied nie, maar dit as ‘n handige hulpmiddel vir massamisleiding gebruik. Al wat nie verkondig sal mag word nie, is ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus, asook stellings soos dié in Johannes 14:6 dat niemand na die Vader kan kom behalwe deur Jesus Christus nie.

Opponerende werk

Die Antichris en valse profeet sal beide van die gees en mag van Satan deurdronge wees en dit vryelik manifesteer. Die valse profeet sal die werk van die Heilige Gees op die volgende tien terreine naboots en teëstaan in ‘n berekende poging om alle mense op aarde deelgenote van sy valse wêreldgodsdiens te maak:

  • Soos wat die Heilige Gees ons aan die Here Jesus voorstel en ons leer om Hóm te aanbid, sal die valse profeet die Antichris aan die mensdom voorstel en hulle leer om hóm te aanbid.
  • Die Heilige Gees versamel en reinig ‘n bruid vir Christus, wat die enigste ware kerk is. Die valse profeet sal deur misleiding ‘n geestelik ontugtige bruid vir die Antichris versamel, wat al die valse gelowe van die wêreld sal insluit.
  • Die Gees van God is die Gees van heiligheid wat ons van sonde oortuig. Die valse profeet het ‘n onrein gees waardeur mense verlei sal word om sonde te doen.
  • Die Heilige Gees verkondig die rein woorde van God aan ons sodat ons na Hóm toe getrek kan word met koorde van liefde. Uit die valse profeet se mond sal ‘n onrein gees kom om die nasies te verlei om met Satan ‘n verbond te sluit.
  • Die Heilige Gees is die Gees van waarheid wat ons in die hele waarheid lei. Die valse profeet sal mense mislei en bedrieg om hulle op ‘n dwaalspoor van leuens te plaas.
  • Die Gees skenk aan ons geloof in God en sy Seun, Jesus Christus. Die valse profeet sal mense mislei sodat hulle in Lucifer en die Antichris glo, wat die seun van die verderf is.
  • Die Heilige Gees vertroos ons, en bemoedig en versterk Christene om geregtigheid te doen. Die valse profeet sal mense oral verskrik, intimideer, aanhits en ook op ‘n bonatuurlike manier bemagtig om die ongeregtigheid te doen.
  • Die Heilige Gees skenk goddelike gawes aan mense om die Here beter te kan dien. Die valse profeet sal demoniese magte aan mense skenk om wonderwerke te doen en ander te mislei.
  • Die Heilige Gees leer ons om God te aanbid en sodoende lewe te verkry. Die valse profeet sal mense dwing om die dier se beeld te aanbid en daardeur hulle eie verdoemenis te bewerk.
  • Die Heilige Gees verseël elkeen wat in Jesus glo as ‘n kind van God. Die valse profeet sal die mense mislei om hulleself met die merk van die dier te laat verseël en sodoende sy volle eienaarskap oor hulle lewens te erken.

Die valse profeet sal die ideologiese en godsdienstige breinspoeling van die mensdom namens die Antichris doen. Hy sal óf uit die alliansie van valse wêreldgodsdienste kom, óf in ‘n kort tydjie volle beheer oor hulle verkry. Die godsdienste van die wêreld sal dan ingespan word om al hulle volgelinge aan die regering van die Antichris dienstig te maak en ook die dier te aanbid. Openbaring 13:14-18 sê duidelik dat die valse profeet die wêreld sal mislei om die dier te aanbid én sy nommer op hulle regterhand en voorkop te ontvang. Die wêreld moet dus staatkundig, godsdienstig en ekonomies onder die vaandel van die Antichris verenig word.

Antichristelike denkwyse

Die denkwyse wat onderliggend aan die Antichris se wêreldryk is, is monisme, wat beteken: alles is een. Die valse profeet sal die ideologie van alles is een tot in sy uiterste konsekwensies toepas. Dit beteken dat alle gelowe ook een is, dat daar net een messias vir die hele wêreld is, naamlik die Antichris, en dat daar geen teenpool van ‘n duiwel en ‘n hel is nie. Lucifer gaan dus as ‘n engel van die lig in die plek van God gestel en aanbid word. Die enigste negatiwiteit in dié ideologie is diegene wat nie die ongekwalifiseerde eenheidsgedagte wil aanvaar en implementeer nie. Dit sal hoofsaaklik die evangeliese Christene wees wat in daardie tyd gered sal word.

Dit is duidelik dat 'n Christelike lewens- en wêreldbeskouing lynreg met die Antichris se monistiese filosofie in botsing is. Die Bybel leer ons nie monisme nie, maar dualisme – alles is twee. Daar is twee groot en onverenigbare werklikhede waarvoor die mens te staan kom, naamlik die koninkryk van God en die koninkryk van Satan. Hulle is totaal gepolariseerd en onversoenbaar, want in dié twee koninkryke staan God teenoor Satan, Christus teenoor die Antichris, die Heilige Gees teenoor Satan se gees van dwaling, lig teenoor duisternis, die waarheid teenoor die leuen, die enigste ware godsdiens teenoor al die valse godsdienste, die smal weg teenoor die breë weg, redding teenoor verlorenheid en die hemel teenoor die hel.

Die denkwyses in die koninkryke van God en Satan moet duidelik van mekaar onderskei word, sodat ons goed kan begryp met watter manier van dink die sataniese gees van dwaling al eeue lank besig is om mense te beïnvloed en in leuens te laat glo. Die valse profeet sal hierdie verdorwe denkwyse oral bevorder en afdwing. In die koninkryk van God word daar teenstellend gedink, soos hierbo verduidelik is, met die gevolg dat grense getrek en dinge skerp van mekaar onderskei word. Dit is dus op ‘n duidelike onderskeidingsvermoë tussen reg en verkeerd ingestel. In die koninkryk van Satan word daar integrerend gedink, met die gevolg dat grense verwyder en alles in een, groot kosmiese geheel verenig word. In hierdie koninkryk is daar nie ‘n onderskeid tussen reg en verkeerd nie, want alles is toelaatbaar – alle lewenstyle, bv. homoseksualisme, en ook alle gelowe, is aanvaarbaar. Die grens tussen die natuurlike en bonatuurlike word glad nie in Satan se ryk erken nie, sodat wonderwerke, die gebruik van verborge kragte soos towery, selfgenesing, Oosterse meditasie en die oproep van geeste, asook kosmiese wysheid vir waarsêery, as alledaagse verskynsels aangemoedig en beoefen word. Hierdie kategorie van magte is duidelik okkulties en satanies van aard. Dit verduister die gemoed van al die beoefenaars daarvan en plaas hulle onder die beheer van die duiwel.

Sondekultuur

Die valse profeet se koms sal, soos die Antichris, wees “volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan” (2 Thess. 2:9-10). Die ongeregtighede wat die Antichris en die valse profeet sal bevorder, sal die grondslag vir ‘n wêreldwye sondekultuur vorm. Selfs te midde van die ergste plae sal die meeste mense hulle nie bekeer nie: “En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en diefstalle nie” (Op. 9:20-21). Die vier groot sondes van die verdrukking sal die volgende wees:

1.    Geweldsmisdade: oorloë, revolusies, terrorisme, opstande, gewapende roof, aanranding, moord, sabotasie en die mishandeling en marteling van mense en diere.

2.    Okkultisme: towery, waarsêery, die beoefening van mistiese gelowe uit die Ooste, meditasie, heldersiendheid, spiritisme, astrale projeksie, afgodediens en satanisme.

3.    Seksuele losbandigheid: buite-egtelike verhoudings, pornografie, onbeteuelde wellus, hoerery, owerspel, prostitusie, kindermolestering, homoseksualisme en lesbinisme.

4.    Ekonomiese wandade: geldgierigheid, dobbelary, diefstal, korrupsie, omkopery, afpersing, intimidasie en onregmatige selfverryking ten koste van ander.

Mense wat reeds openlik vir Satan en sy werke kant gekies het, se sinne is so totaal verblind dat hulle die leuen glo en die waarheid aanhoudend verwerp, terwyl hulle volspoed en sonder nadenke na die verderf voortsnel. Dié wat vuil is, word nóg vuiler. Teen die einde van die groot verdrukking sal die laagtepunt van verval bereik word waartoe die Satan, die Antichris en die valse profeet die dekadente en godverwerpende mensdom van die eindtyd sal kan beïnvloed en aftrek. Die einddoel met geestelike verval is dat alle mense Satan en die Antichris sal aanbid.

Misleiding deur tekens en wonders

Die valse profeet sal al sy duiwelse magte gebruik om mense te mislei om die Antichris as God te aanbid, en ook sy nommer op hulle regterhand of voorkop te ontvang. Johannes sê: “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewend geword het. En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig” (Op. 13:11-18).

Die wêreld gaan soos nooit tevore nie aan godsdienstige misleiding blootgestel word om die antichristelike nuwe wêreldorde te aanvaar en uiteindelik vir Satan én die Antichris as God te aanbid. Die voorlopers van die valse profeet is nou al intensief met geestelike misleiding en breinspoeling van hierdie aard besig. Daar is in Suid-Afrika verskeie teoloë wat klaar deur die mag van Satan se monistiese en integrerende denkwyse vasgevang is. Hulle kan nie meer onderskeid tussen konsepte soos die hemel en die hel tref nie, daarom ontken sommige van hulle die bestaan van beide. Hulle kan nie tussen die enigste ware godsdiens en al die valse godsdienste onderskei nie, daarom raak hulle by die intergeloofsbeweging betrokke waarin met alle gelowe hande gevat word. Hulle kan ook nie tussen Christus en die Antichris onderskei nie, daarom ontken hulle profesieë oor die koms van die Antichris en sal hom gevolglik as Christus aanvaar wanneer hy wél kom.

Volgens die Bybel sal die monistiese ideologie van “alles is een” ná die wegraping en die verskyning van die Antichris op alle vlakke van die samelewing gepropageer en afgedwing word. Dit sal as die enigste grondslag vir moreel korrekte waardes en ‘n lewenshouding van kompromie deur middel van sosiale, kulturele en godsdienstige vermenging en eenwording onder alle nasies op aarde beskou word. Daar sal geen ruimte vir eksklusiewe groepsregte geskep word nie – allermins vir die hoogs eksklusiewe Christelike godsdiens. Die Christelike geloof word nou al in die tradisioneel Christelike wêreld sy plek as die enigste ware godsdiens in die samelewing ontsê.

Uit die staanspoor sal diegene wat ‘n besluit téén die Antichris en vír Jesus Christus neem, hulleself van die ontluikende neo-Babiloniese wêreldsamelewing, sy kultuur, ideologie, waardes en mistiese godsdienspraktyke moet distansieer. Dit sal egter nie vir hulle om selfbehoud alleen moet gaan nie. Hulle behoort dit as hulle taak te aanvaar om die teenstellende Bybelse beginsels en waardes onder die verwarde en misleide slagoffers van die Antichris, die valse profeet en hulle nuwe wêreldorde te verkondig. Al is die risiko’s ook hoe groot, sal daar geen ander eerbare weg wees om te volg nie. Menselewens sal soos nooit tevore nie op die spel wees, en hulle sal dringend teen geestelike misleiding, verbondsluiting met die duiwel en die ewige verderf daarna gewaarsku moet word. Satan probeer eers om mense se sinne deur misleiding te verblind (2 Kor. 4:4), daarna gebruik hy hulle om sy vuil werk te doen deur miljoene ander mense te mislei. Hulle enigste loon hiervoor sal kortstondige aansien, mag en rykdom in ‘n verdorwe samelewing wees, en daarna die ewige verderf saam met die duiwel en sy engele.

Nadat die valse profeet miljoene mense deur geestelike en ideologiese misleiding aan die Antichris dienstig gemaak het, sal diegene wat hardkoppig weier om die knie voor die eindtydse Baäl te buig, summier om die lewe gebring word. Die valse godsdienste was nog altyd hatig en vyandig teen die Christendom, en in die groot verdrukking sal hulle die mag én reg kry om onder die leiding van die valse profeet volle uiting aan hulle haatveldtog teen die Christendom te gee. Die Antichris sal saam met die valse profeet alle geestelike opposisie uit die weg ruim. Openbaring 13:7 sê: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin.” Hierna sal onrein geeste wat tekens doen, na die konings van die aarde uitgestuur word om hulle vir ‘n oorlog teen die komende Christus in Israel, en spesifiek in die stad Jerusalem, te mobiliseer. Dit sal die sataniese driemanskap se laaste daad van massamisleiding wees:

“En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God… En hulle het hul versamel op die plak wat in Hebreeus genoem word Armageddon" (Op. 16:13-16). Wanneer Jesus Christus tydens die hoogtepunt van die slag van Armageddon kom, sal daar geen gesprek met Satan se regeerders gevoer word nie. Hulle sal lewendig gevang en onmiddellik in die hel gegooi word (Op. 19:20). Dit sal ook ‘n baie slegte dag vir hulle ideologies en geestelik misleide wêreldmag wees: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings” (Op. 17:14; vgl. Op. 19:21).

Daar ís egter ‘n alternatief vir hierdie aaklige lot wat op sondaars wag, en dit is dat hulle die Here Jesus as hulle Redder en Saligmaker sal aanneem (Joh. 1:12). Dit is God se wil dat alle  mense gered word, sodat hulle nie in die plek van ewige pyniging sal beland nie. Petrus sê: “Die Here… wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). Daar is nie so iets dat sommige mense vir die hemel uitverkies is en al die ander voor die grondlegging van die wêreld tot die hel verdoem is nie. Niemand is byvoorbaat vir die poel van vuur bestem nie, behalwe Satan en sy engele wat reeds tot ‘n finale val gekom het. Wat die mensdom betref, het God ons “nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus” (1Thess. 5:9). Hy wíl hê dat alle mense gered moet word (1 Tim. 2:4).

Dit is egter ‘n saak van keuse, omdat elke mens ‘n vrye wil het. Elkeen kan self besluit waar hy of sy die ewigheid wil deurbring. Ons word vriendelik uitgenooi om na Jesus Christus te kom, ons sondes te bely en die ewige lewe by Hom te ontvang. Het jy al op dié uitnodiging gereageer? “…laat elkeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17). Moenie hierdie saak ligtelik opneem nie, want hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? (Heb. 2:3). Moenie as gevolg van jou geestelike onverskilligheid die oordeel van die duiwel en sy engele met hulle deel nie! Die valse profeet sal homself hiervoor beywer.

Die einde van die pad

Hoe ver het die wêreld al op die pad van geestelike en ideologiese misleiding gevorder, sodat die geleentheid vir die openbaring van die Antichris en die valse profeet oral op aarde gunstig kan wees? Die stigting en verdere uitbreiding van multigodsdienstige organisasies lewer sterk bewyse dat hierdie proses reeds ver gevorder het. Die afgelope 12 jaar het die Parlement vir Wêreldgodsdienste drie groot internasionale konferensies gehou (een in Chicago, een in Kaapstad en een in Barcelona) waar duisende afgevaardigdes uit 250 gelowe samesprekings gehou het om nouer bande te smee en wêreldeenheid te bevorder. Dieselfde ideaal word ook deur die Verenigde Godsdienste Inisiatief nagestreef, wat tydens die Millennium-beraad van die Verenigde Nasies in die lewe geroep is. Hierbenewens is daar die afgelope paar jaar talle uitsprake deur leierspersone uit die politieke, godsdienstige én sake-sektore van die meeste groot lande gemaak, ter ondersteuning van die leuen dat alle gelowe gelyk is en ter wille van eenheid moet saamwerk.

Dit is duidelik dat die evangeliese Christene die laaste groot struikelblok in die weg van die verskyning van die Antichris en die valse profeet is. Wanneer die Here sy bruidsgemeente kom haal het, sal hierdie twee verleiers na vore tree en die hele wêreld deur hulle sataniese eenheidstrewe en wonderwerkende kragte verenig. Dan sal daar ‘n uur van geestelike duisternis, immoraliteit, korrupsie en massamisleiding aanbreek soos wat die wêreld nog nooit beleef het nie. Dit sal die weg vir groter boosheid open, omdat dit na die Antichris se selfvergoddeliking en militêre diktatuur sal lei.

 

11. Die Oordele van die Verdrukking

Die oordele van die sewe jaar lange verdrukking kan in twee duidelike groepe verdeel word. Gedurende die eerste 3½ jaar sal daar onder die Antichris se leiding ‘n valse vrede en eenheid op aarde heers, wat met ‘n uiterste vorm van geestelike misleiding deur ‘n valse, multigodsdienstige geloof gepaard sal gaan. Die grondslag van wêreldeenheid sal ten diepste godsdienstig wees, gebaseer op die valse aanname dat alle gelowe dieselfde God aanbid en as gevolg hiervan ook dieselfde, universele christus moet aanhang, navolg en aanbid. Die Antichris sal dus self aan die hoof van die alliansie van wêreldgodsdienste staan en saam met Lucifer, die god van hierdie wêreld, die hele mensdom in ‘n diep geestelike verblinding inlei sodat hulle glad nie in die ware evangelie sal glo nie (2 Kor. 4:4). Openbaring 13:8 sê dat alle mense die Antichris sal aanbid, behalwe net die relatief klein groep ware Christene.

In die middel van die verdrukking sal die Antichris volgens Openbaring 13:3 en 12 ‘n dodelike wond ontvang, waarskynlik in ‘n sluipmoordaanslag, maar wonderbaarlik uit die dood opgewek word. Hy sal dan ‘n gedaanteverwisseling van ‘n valse vredevors tot ‘n gewelddadige en magshonger diktator ondergaan en genadeloos op al sy teëstanders toeslaan. Groot oorloë sal op baie plekke gevoer word. Hy sal homself ook, soos Lucifer voor sy val, met God gelykstel en almal laat teregstel wat weier om hom as God te aanbid. Terselfdertyd sal hy ‘n ekonomiese diktatuur instel en slegs aan diegene die reg tot koop- en verkoop toeken wat ‘n eed van getrouheid aan hom aflê en hom ook aanbid.

Behalwe dat die Here die rebelse mensdom aan hierdie tiran se dwingelandy sal oorgee, sal Hy self ook groot oordele oor die aarde beskik sodat die goddeloses gestraf kan word. Uit hierdie vreeslike oordele sal net ‘n klein oorblyfsel van Israel en die nasies gered word. Die laaste 3½ jaar van die verdrukking word as die “groot verdrukking” beskryf. Die Here Jesus het vir die Jode wat Hom verwerp het, gesê dat hierdie tyd sal aanbreek die dag wanneer die Antichris die tempel ontheilig deur ‘n afgodsbeeld van homself daarin op te rig. Hy het hulle beveel om dan vinnig vir hulle lewe te vlug, “want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22). Die hele wêreldbevolking sal teen die einde van die groot verdrukking op die randjie van algehele uitwissing te staan kom.

Die sewe seëls

Die oordele van die Here begin by die oopmaak van die sewe seëls in die hemel. Die eerste vier seëls dui op verskillende verskyningsvorme van die Antichris, naamlik as valse vredevors, militêre diktator, rantsoeneerder van lewensmiddele, en die doodsengel wat soveel as moontlik mense sal probeer verdelg. Die vyfde seël verwys na die christenmartelare wat tydens sy skrikbewind sal sterf: “En toe hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van dié wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons dood op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees” (Op. 6:9-11).

Die sesde seël beskryf die groot rampe en plae wat in die verdrukking oor die aarde sal kom, en wat duidelik as oordele van die Here erken sal word. Toestande sal na die einde toe só haglik word dat die sondaars deur groot benoudheid oorweldig sal word. Hulle sal vreesbevange berge toe vlug omdat hulle sal besef dat dit die Here se toorn is wat oor die aarde en sy bewoners uitgestort word: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle versteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:12-17).

Brandende hemelliggame sal oral op die aarde val. Dit kan komete, meteore of brokstukke daarvan wees, m.a.w. meteoriete, of ook asteroïdes, wat met verwoestende gevolge die aarde sal tref. Terselfdertyd sal groot aardbewings plaasvind, asook ernstige lugbesoedeling, sodat die sonlig verduister sal word. Mense sal nie in die stede waarin hoë geboue sal omval, kan oorleef nie. Hulle sal paniekbevange na die berge toe vlug en besef dat die vreeslike dag van die Here se toorn aangebreek het. Nogtans sal die meeste van hulle – soos die Egiptenare tydens die tien plae wat oor hulle land uitgestort is – hulle harte verhard en hulle nie bekeer nie.

Die sewe basuine

Die sewende seël kondig die sewe basuine aan: “En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ‘n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand. En die tweede engel het geblaas, en iets soos ‘n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En ‘n derde van die see het bloed geword, en ‘n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en ‘n derde van die skepe het vergaan. En die derde engel het geblaas, en ‘n groot ster wat soos ‘n fakkel brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op ‘n derde van die riviere en op die waterfonteine. En die naam van die ster word genoem Alsem; en ‘n derde van die waters het als geword, en baie mense het gesterwe van die water, omdat dit bitter geword het. En die vierde engel het geblaas, en ‘n derde van die son is getref en ‘n derde van die maan en ‘n derde van die sterre, sodat ‘n derde van hulle donker sou word en die dag vir sy derde deel nie lig sou gee nie, en die nag net so” (Op. 8:7-12).

Hieruit is dit duidelik dat groot dele van die see sowel as varswaterbronne, bome, gras en ook die lig van die son, maan en sterre met vernietigende gevolge getref sal word. Die brandende ster wat op die aarde val, asook die voorwerp wat soos ‘n brandende berg in die see val, kan moontlik meteoriete, asteroïdes of brokstukke van ‘n komeet wees wat in die aarde se atmosfeer weens hitte aan die brand slaan en daarna die aarde tref. Van hierdie rampe kan egter ook mensgemaak wees, bv. kernmissiele wat buite beheer raak en op verskillende plekke in die see of op land val, ontplof en verwoesting saai. Behalwe die ernstige skokgolwe wat geboue vir kilometers ver sal platvee, sal daar ook groot brande ontstaan. Ontploffings in die see sal golwe veroorsaak, soos die tsunami van Desember 2004, waardeur eilande en kusgebiede oorstroom sal word. Duisende skepe sal ook vergaan en seediere vrek.

Die vyfde en sesde basuine kondig geweldige rampe oor die mensdom self aan – die een plaag deur pyniging en die ander een deur die dood. In Openbaring 9:1-11 word vreemde insekte beskryf wat soos harige sprinkane lyk met sterte soos skerpioene, gesigte soos dié van mense, met lang tande en iets soos krone op hulle koppe. Hulle sal uit ‘n put opstyg waaruit ook rookwolke kom wat die sonlig sal verduister. Hierdie diertjies sal die mense met hulle angels steek en vyf maande lank pynig sodat hulle sal wens hulle sterf. Die dood sal egter vir hulle wegvlug. Sommige verklaarders meen dat dié diertjies demone kan wees wat mense sal treiter. Hulle herkoms uit die put van die afgrond suggereer duidelik só ‘n moontlikheid.

In Openbaring 9:13-19 word die sesde basuin aangekondig. Dit is ‘n beskrywing van hoe die konings van die Ooste, dit is Sjina en sy bondgenote, ook vir die oorloë van die groot verdrukking gemobiliseer sal word. ‘n Kwart van die totale wêreldbevolking is Sjinese. Hierdie sluimerende reus sal eers in die groot verdrukking wakker word en dan sy skrikwekkende vernietigingswerk aanrig. ‘n Mag van 200 miljoen Asiate sal oor die Eufraatrivier trek en die Midde-Ooste, asook die Westerse wêreld, binneval. Hulle sal ‘n baie groot slagting aanrig en ‘n derde van alle mense op aarde doodmaak:

“En [die stem uit die altaar] het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat. Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend [dit is 200 miljoen]; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood” (Op. 9:14-18).

Die Eufraatrivier is die skeiding tussen Oos en Wes. Die groot eindtydse vyand van Israel én die vrye wêreld kom van oorkant die Eufraat. Vier engele is hier gebind tot op die jaar, maand, dag en uur wanneer hulle losgelaat sal word om met die behulp van hierdie Oosterse vyande ‘n derde van alle mense dood te maak. Dié vier engele is demone, omdat goeie engele nooit gebind word nie. Hulle sal 200 miljoen soldate tot hulle beskikking hê. Die vreemde beskrywing van oorlogsperde met vuur en rook wat uit hulle bekke gaan, is nie doelbewuste simboliese taal nie, maar die gevolg van die feit dat Johannes met sy woordeskat van die eerste eeu nie oor begrippe beskik het om moderne oorlogwapens mee te beskryf nie. Moontlik het hy tenks met moderne wapentuig gesien en dit was die enigste manier waarop hy dit kon beskryf. Daar is verskeie aanduidings in Openbaring dat kernwapens in die oorloë van die groot verdrukking gebruik sal word, omdat buitengewone verwoesting aangerig sal word.

Grootskaalse geestelike verhardheid sal tydens die apokaliptiese plae van Openbaring onder die mense op aarde voorkom: “...en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie” (Op. 16:9).

Die sewe skale

Wanneer die sewende basuin blaas, word die geweldigste oordele van alle tye oor die aarde aangekondig. Die konings van die aarde sal onder die invloed van demoniese misleiding en aanhitsing na Armagéddon optrek om in die dal van beslissing deur die Here verdelg te word. Die kragte van die hemel sal ook geskud word soos nooit tevore nie, dan sal die Seun van die mens in groot krag en heerlikheid kom. Hy sal gerig hou met sy vyande, die ryk van die Antichris totaal vernietig en self die koningskap oor die hele wêreld op sy skouers neem:

“En ek het ‘n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit. Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het. En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van ‘n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe. En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword. En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien…

“En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om mense met vuur te skroei. En die mense is geskroei met ‘n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie. En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn; en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie.

“En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word … En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon.

“En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ‘n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar [dit is 50 kilogram], het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was” (Op. 16:1-21).

Die eerste skaal is ‘n oordeel wat op mense gerig word en dit tref die aanhangers van die Antichris. Die bose swere kom op almal wat die merk van die dier ontvang het en sy beeld aanbid. Dit is al die misleides wat ‘n verbond met Satan se verteenwoordiger, die Antichris, gesluit het om sy nommer ter wille van ekonomiese oorlewing en in ruil vir hulle siele te aanvaar. Hulle sal die Antichris aanbid en voor die wederkoms reeds die vergelding van die Here in hulle liggame ontvang wat hulle deur Satan laat merk het.

Die tweede skaal tref al die oseane van die wêreld – nie net ‘n derde daarvan soos in die geval van die basuine nie. Die water daarvan sal soos bloed word en al die seediere laat vrek. ‘n Ramp van hierdie omvang sal die mensdom van ‘n belangrike voedselbron ontneem, hongersnode veroorsaak, pessiektes deur ontbindende seediere in die hand werk, mense van die kusgebiede af laat wegvlug en seevaart haas onmoontlik maak. Die derde skaal word op die riviere en fonteine uitgegooi en sal die water daarvan in bloed laat verander. Sodoende sal oorlewingskanse op land ook drasties verminder word en miljoene mense en diere ‘n gewisse dood in die gesig laat staar. Die vierde skaal word op die son uitgegooi en sal ongekende hittegolwe meebring. Groot uitbarstings sal op die son voorkom, en moontlik sal die osoonlaag in daardie stadium omtrent vernietig wees. Behalwe vir die toenemende hitte sal skadelike ultravioletstrale sere en velkanker veroorsaak by mense wat aan direkte sonstrale blootgestel word.

Die vyfde skaal word oor die wêreldryk van die Antichris uitgegiet, en hul dit in totale duisternis. Mense sal angsbevange in die duisternis rondtas terwyl die oordele van God oor hulle uitgestort word, en God laster oor al die plae omdat hulle reeds hulle siele aan Satan verkoop het deur die merk en nommer van die dier te ontvang. Sulke mense sal dan nie meer onder sonde-oortuiging kan kom om gered te word nie, omdat hulle reeds die krag van die dwaling ontvang het om die leuens van Satan te glo (2 Thess. 2:11).

Die sesde skaal word oor die Eufraatrivier uitgegooi en laat dit opdroog sodat die Oosterse nasies droogvoets daardeur kan trek om ook by Armageddon aan daardie groot oorlog van die Almagtige God deel te neem. Onder demoniese misleiding sal ‘n reuse leër van 200 miljoen Asiatiese soldate optrek soos skape na die slagpale toe om deur die vernietigende oordele van God getref te word. Gedurende hulle opmars sal hulle egter ‘n derde van alle mense verdelg, soos wat in Openbaring 9:14-19 beskryf word. Dink daaraan dat daar nouliks 200 miljoen mense op aarde was toe Johannes hierdie profesie geskryf het. Vandag kan Sjina alleen 200 miljoen soldate mobiliseer indien hy al sy weerbare seuns en mans oproep.

Die sewende skaal het die grootste aardbewing tot gevolg wat daar nog ooit op aarde was. Die stede van die nasies sal val en in baie dele van die wêreld, veral in Israel, sal die landskap grootliks deur die aardbewings verander word. Die groot skudding van die aardbewings sal Jerusalem in drie dele verdeel en die stad Babilon totaal vernietig. Die aardbewings sal ook met ongekende haelstorms gepaard gaan. Vir haelstene van 50 kilogram om te val, beteken dit dat daar geweldige hoë temperature moet wees sodat die vog deur die stygende warm lug tot buitengewone hoë hoogtes opgevoer kan word. Die voorkoms van sulke hittegolwe word in Openbaring 16 bevestig. Jesaja sê hieroor: “En die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as die Here die breuk van sy volk verbind en die wond gesond maak wat aan hulle geslaan is” (Jes. 30:26). Daar gaan rampe van ‘n ongekende omvang plaasvind.

Die dag van die Here kom!

Die dag wanneer die Here kom om die oorblyfsel van sy volk te red en die nasies te oordeel, sal ‘n dag van verskrikking wees wanneer die kragte van die hemel geskud sal word. Verskeie van die Ou Testamentiese profete het profesieë oor die dag van die Here uitgespreek. Mense sal enersyds deur skroeiende hitte en droogtes geteister word, en andersyds deur verstikkende duisternis en die gerammel van geweldige aardbewings. Die sondaars wat hulle harte verhard het, sal saam met hulle handewerk verbreek word en op die puinhoop van ‘n verwoeste aarde beland: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. Want die sterre van die hemel en sy Orions sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie. En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir. Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die Here van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed” (Jes. 13:9-13).

Daar is baie meer sulke ernstige waarskuwings oor die oordele van die dag van die Here opgeteken, sodat mense nie die realiteit daarvan ligtelik opsy moet skuif nie. Die ontsettende omvang van die verwoesting, die redes daarvoor, naamlik ‘n uiters sondige geslag mense soortgelyk aan dié in die tyd van Noag en Lot, asook die feit dat dit oordele van God is, word telkens beklemtoon. Aan die einde van die groot verdrukking sal Jesus Christus terugkom aarde toe om sy heerskappy hier te vestig met Jerusalem as hoofstad van die vrederyk. Dan eers sal alle oorlogswapens vernietig word (Jes. 2:4) en vrede op aarde heers. Huidiglik is die nasies egter besig om geestelik en moreel verder te verval en deur hulle eie toedoen groot en haas onoplosbare probleme en konflikte te skep. As gevolg van die toenemende spanning tussen baie nasies is dit by hulle ‘n hoë prioriteit om wapens van massavernietiging te ontwikkel en op te gaar, met die gevolg dat die wêreld op ‘n tydperk van ongekende oorloë en verdrukking afstuur.

Hoewel die oordele van die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe skale eers in die sewe jaar van die verdrukking uitgestort sal word, is dit duidelik dat die wêreld reeds in die finale aanloopfase na daardie verskriklike tyd is. Wat nou gebeur, is net tekens van die naderende oordele wat aan die kom is. Hierdie tekens moet nie ligtelik opgeneem en onderskat word nie, want hulle is bedoel om die mensdom te waarsku oor dit wat binnekort gaan gebeur. Die toename in natuurrampe soos aardbewings, ontwrigte weerspatrone en stygende seevlakke as gevolg van aardverwarming en die smelt van ys in die poolstreke, asook die vermeerdering van komete, asteroïdes en meteoriete wat ‘n bedreiging vir die aarde skep, hou vir ons ‘n besliste en baie ernstige boodskap in. Daar kom ‘n verdrukking en natuurrampe soos wat daar nog nooit was nie!

Die grootste natuurramp tot op datum was die tsunami wat op 26 Desember 2004 in Suidoos-Asië voorgekom het. Die Engelse woordeboek beskryf ‘n tsunami as “a long high sea wave caused by underwater earthquakes or other disturbances.” Missiele wat in die see ontplof, of groot meteoriete wat in die see val, sal ook sulke reuse golwe veroorsaak. Dit is ‘n uitgemaakte saak dat daar weer sulke groot aardbewings, en selfs groteres, sal plaasvind. Volgens die Bybel sal daar aardbewings voorkoms wat só erg is dat bergreekse omver gewerp, eilande onder die see verdwyn en alle hoë geboue op die aarde sal val (Eseg. 38:18-20; Op. 16:18-21). Voorwerpe soos brandende berge sal uit die lug kom en met verwoestende gevolge in die see val (Op. 8:8-9). Dit is opvallend hoe baie van hierdie natuurrampe met die see te doen het.

Wat kan die mens doen om homself teen sulke rampe te verweer? Feitlik niks nie! “Daar sal... benoudheid van nasies in hulle radeloosheid [wees] wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Luk. 21:25-26). In hierdie toestand van radeloosheid sal die nasies ook in ‘n groter mate verenig word, omdat die rampe almal sal tref en hulle mekaar se hulp ter wille van oorlewing dringend nodig sal hê. Hierdeur sal die proses van globalisme en ‘n antichristelike wêreldregering verder bevorder word. Dit sal tot internasionale verset teen God lei, asook lastertaal teen Hom, omdat die mense sal besef dat Hy hulle oordeel (Op. 16:11,21).

In ‘n tyd van dreigende oordele nét voor die verwoesting van Jerusalem en die Babiloniese ballingskap van Israel, het die Here vir Barug gesê: “Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ek self uit; en dit betref die hele aarde. En sou jý vir jou groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die Here” (Jer. 45:4-5). Ons is in ‘n soortgelyke maar baie ernstiger situasie. Die hele wêreld stuur op ‘n tyd van verdrukking en goddelike oordele af soos wat daar nog nooit was nie. Dit is nie nou die tyd om groot aardse belange na te streef en Mammon te dien nie, maar om jou op ‘n toekoms in die hemel voor te berei, skatte daar bymekaar te maak en ongeredde mense teen die naderende oordele te waarsku.

 

12. Israel in die Verdrukking

Baie mense maak die fout om Israel in die Openbaringsgebeure mis te kyk. Hierdeur gaan 'n groot deel van die Bybelse perspektief op die sewe jaar lange verdrukking verlore, asook een van die belangrikste profetiese tekens van die einde van die kerkbedeling, naamlik die herstel van Israel en spesifiek ook hulle hoofstad, Jerusalem. As 'n algemene stelling in verband met die wederkoms word in Openbaring 1:7 gesê: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het.” Hierdeur word dit baie duidelik geïmpliseer dat Israel terug in hulle land en hulle stad, Jerusalem, moet wees omdat hulle ook in ‘n nasionale verband, as volk, 'n besluit ten opsigte van die gekruisigde Jesus sal moet neem wat tydens sy eerste koms deur hulle vaders verwerp en oorgelewer is om gekruisig te word.

Wat ons kennis oor die naderende verdrukking betref, is die status van Jerusalem die belangrikste enkele teken wat die Here Jesus oor die einde van die kerkbedeling aan ons gegee het. Nadat Hy die fisiese verwoesting van die stad en die internasionale verstrooiing van die Jode beskryf het (Luk. 19:41-44; 21:5-6,20-24), beklemtoon Hy die feit dat Jerusalem net tot op 'n bepaalde tydstip in die toekoms aan die beheer en vertrapping deur nie-Joodse volke onderworpe sou wees: "…en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is" (Luk. 21:24; kyk ook Rom. 11:25-26). Die woord "totdat" dui nie alleen op die feit dat Jerusalem se vertrapping in 'n stadium beëindig sal word nie, maar ook dat dit met die einde van die tye van die nasies sal saamval. Dit is dus vir ons baie belangrik om verwikkelinge in en om Jerusalem dop te hou, sodat ons die belangrikste teken van die einde van hierdie bedeling behoorlik in ag kan neem.

Hou in gedagte dat Bybelse Jerusalem die Ou Stad is, waarna ook as die Stad van Dawid verwys word, wat in 1967 in die Sesdaagse Oorlog deur Israel verower is. In 1980 is Jerusalem tot die hoofstad van Israel verklaar en daarna word nog net die Tempelberg deur die heidene vertrap. Israel word ongered in hulle land herstel. In Eségiël 22 van vers 18 af sê die Here dat Hy hulle in Jerusalem bymekaar sal maak en ‘n vuur teen hulle sal aanblaas. In die benoudheid van die verdrukking sal hulle na die Here soek (Jer. 30:7; Hos. 5:15–6:2). In die proses van Israel se geestelike herstel sal die duiwel alles moontlik doen om die volk te bedrieg deur 'n valse messias aan hulle te bied. Die Antichris sal homself as Israel se Verlosser en beloofde Messias voordoen en die volksleiers sal hom as sodanig aanvaar. Die Here Jesus het na hierdie tragiese besluit verwys toe Hy tydens sy eerste koms en verwerping deur die volk gesê het: "Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As 'n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem" (Joh. 5:43).

Hierdie verleier wat homself as die ware Messias sal voordoen, is die valse messias waarteen Jesus die volk duidelik gewaarsku het (Matt. 24:4-5). Hy is die ruiter op die wit perd wat in Openbaring 6 sal uitdraf as 'n oorwinnaar en om te oorwin. Hy sal geen tyd verspil om sy posisie in Israel te konsolideer nie, en groot openbare steun verwerf deur dit vir die volk moontlik te maak om die tempel te herbou. Hy sal die Messiaanse herlewing teëwerk as iets wat na bewering in stryd met Israel se nasionale godsdiens en offerdiens is en dus ‘n bedreiging vir Judaïsme inhou.

Die 144 000 verseëldes

'n Baie belangrike gebeurtenis wat aan die begin van die verdrukking sal plaasvind, is die redding van 144 000 Jode en hulle afsondering in die diens van die Here. Dit vind baie duidelik ná die bedeling van die kerk plaas, omdat hulle godsdienstige posisie direk met hulle volks- en stamidentiteit in verband gebring word. Dit is anders as wat gedurende die volk se verstrooiing in die kerkdispensasie die geval was, waar volksverband nie 'n oorweging vir die redding van mense is nie (Gal. 3:28). Die 144 000 is die eerste groep wat deel van die geestelike herstel van die volk Israel sal uitmaak: "En ek het die getal van die verseëldes gehoor: 144 000 verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel" (Op. 7:4).

Daar is geen onduidelikheid oor hierdie stelling nie en dit is eksegeties totaal onregverdigbaar om die 144 000 Joodse evangeliste op die kerk of enige ander groep mense buite Israel toe te pas. Dit is duidelik dat die Here pas nadat Hy sy bruidsgemeente kom haal het, die geestelike potensiaal van die herstelde Israel sal benut om sy lig in die donker nag van die verdrukking te laat skyn. Toe Elia weggeraap is, het sy mantel en profetiese bediening op Elisa geval. In die komende uur van die duisternis sal die Here Homself ook nie onbetuig op die aarde laat nadat sy bruid weggeraap is nie.

Openbaring 7 sluit by 'n lang reeks profesieë in die Bybel aan waarin die waarborg gegee word dat die Here sy volk Israel nie alleen fisies en staatkundig in hulle land sal herstel nie, maar dat hulle in die laaste dae ook geestelik sal herleef: "Daarom, sê vir die huis van Israel... Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word... En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My 'n volk en Ek sal vir julle 'n God wees" (Eseg. 36:22-28).

Daar is tans baie duisende Jode wat al aan die Nuwe Testamentiese feite omtrent Jesus se Messiasskap blootgestel is, maar nog nie 'n besluit daaroor geneem het nie. Nadat die wegraping plaasgevind het en al die Messiaanse Jode (dié wat voor die tyd reeds vir Jesus as hulle Messias aangeneem het) saam met die bruidsgemeente weg is, sal 'n ernstige herwaardering van Bybelse feite deur 'n groot groep agtergeblewenes gedoen word. Die Heilige Gees sal kragtiglik onder hulle werk (Sag. 12:10) en baie van hulle sal die Here Jesus as Verlosser aanneem.

Uit hierdie herlewing sal 144 000 weergebore Jode na vore tree wat deur die Here vir 'n wêreldwye evangelisasietaak afgesonder sal word (Matt. 24:14). Soos Daniël se drie vriende sal hulle in die uur van verdrukking bewaar word, sodat hulle hul bediening as die Here se uitverkore getuies onder uiters moeilike omstandighede sal kan uitvoer.

Die twee getuies

Omdat die wêreld ná die wegraping geestelik gesproke in duisternis gehul sal wees, sal die Here benewens die 144 000 Joodse evangeliste ook twee spesiale getuies in Israel opwek om teen die valse messias standpunt in te neem en ook oordele oor hulle teëstanders te bring: “En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, 1260 dae lank sal profeteer. Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan. En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word. Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil” (Op. 11:3-6).

Daar is verskillende verklarings oor wie hierdie twee spesiale getuies sal wees. Oor die een, nl. Elia, is daar eenstemmigheid. In die laaste twee verse van die Ou Testament word gesê: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie” (Mal. 4:5-6). Die ander Joodse profeet wat baie groot aansien onder ortodokse Jode geniet, en ook buite Israel baie bekend is, is Moses. Dit is opvallend dat dit juis Moses en Elia was wat saam met Christus op die berg van verheerliking verskyn het (Matt. 17:3).

Verskeie verklaarders is van mening dat Moses en Elia in sterflike liggame na die land Israel sal terugkeer. Dit is egter nie ‘n uitgemaakte saak dat Moses en Elia persoonlik na die aarde teruggestuur sal word om deur die Antichris en sy magte doodgemaak te word nie, want dit sal beteken dat Moses ‘n tweede keer sterf. Dit is meer waarskynlik dat twee Messiaanse Jode in die gees en krag van Moses en Elia opgewek sal word. Die profesie oor die koms van Elia is reeds gedeeltelik in die optrede van Johannes die Doper vervul (Matt. 17:10-13). Johannes het egter net “in die gees en krag van Elia” opgetree en sodoende die tipiese rol van Elia vervul (Luk. 1:17). Hy het ontken dat hy Elia self was (Joh. 1:21).

Gedurende die eerste 3½ jaar van die verdrukking sal hierdie twee getuies kragtig in Israel getuig sodat die valse messias nie die hele volk sal kan mislei nie. ‘n Oorblyfsel in Israel sal hierdeur voorberei word om die valse messias te verwerp wanneer hy homself in die herboude tempel tot God verklaar. Geen wonder dat die valse messias en sy volgelinge so uitermate vyandig teen hulle sal wees nie. Wanneer die valse messias homself in die middel van die verdrukking tot God verklaar, alleenheerskappy opeis en ‘n militêre diktatuur instel, sal hy die twee getuies aanval en doodmaak: “En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak” (Op. 11:7). Ná ‘n paar dae sal die twee getuies uit die dood opgewek word en opvaar hemel toe (Op. 11:11-12). Hierna sal die donker en stormagtige tyd van die Antichris se 3½ jaar lange skrikbewind op aarde aanbreek. Terselfdertyd sal die oordele van die dag van die Here oor ‘n sondige en rebelse mensdom uitgestort word. In hierdie tyd sal die Here ‘n oorblyfsel in Israel teen uitwissing beskerm deur hulle op ‘n spesiale plek in die woestyn te bewaar.

Herbouing van die tempel

In die eerste 3½ jaar van die verdrukking sal Israel en die nasies die slagoffers van grootskaalse misleiding wees en almal saam die valse messias as die ware Messias en spesiale gesant van God aanvaar. As universele messias sal hy die samebindende faktor tussen alle godsdienste in die wêreld wees. Vir die nominale Christene sal hy die Christus wees, vir die Moslems die Imam Mahdi, vir die Hindoes Krishna, vir die Boeddhiste die Maitreya Boeddha en vir die Jode die Messias. Alle gelowe sal hande vat en mekaar onderling aanvaar op grond van die valse aanname dat hulle dieselfde God aanbid en dus dieselfde wêreldmessias moet navolg.

In hierdie tyd sal Israel hulle tempel herbou as deel van die verbond wat hulle met die valse messias sal sluit. Dit sal in die teken van die voortgesette verwerping van Jesus staan, daarom sal die herbouing van die tempel ‘n hoë prioriteit by die Antichris wees. Die hervatting van diere-offers sal ook die uitdruklike en voortgesette verwerping van Jesus Christus as die Lam van God behels, wat Homself eenmalig vir die sondes van die hele wêreld geoffer het (Heb. 7:26-27).

In Openbaring 11 word daar na die tempeldiens en die ontheiliging van die tempel in die verdrukking verwys. Watter tempel is dit? Daar word in die geskiedenis en profesieë oor Israel na die volgende vier tempels verwys:

1.    Die tempel van Salomo. Hierdie tempel is voor die Babiloniese ballingskap verwoes maar ná Israel se herstel uit die ballingskap weer herbou. Dit staan as die eerste tempel bekend.

2.    Die tempel van Herodes. Hierdie tempel is in die laaste eeu voor Christus deur Herodes vir die Jode gebou om hulle guns te wen. Dit staan as die tweede tempel bekend.

3.    Die tempel van die verdrukking. Hierdie tempel sal in die komende verdrukking (in die 70ste jaarweek van Daniël) ná ‘n verbond tussen die Antichris en die Joodse volk in Jerusalem gebou word. Hierna word as die derde tempel verwys. Die Antichris sal homself in dié tempel tot God verklaar.

4.    Die tempel van die Messiasryk. Hierdie tempel sal ná die koms van die ware Messias in Jerusalem gebou word (Eseg. 40-44). Hierna word as die vierde tempel verwys. Dit sal in die vrederyk die doel dien as ‘n terugverwysing na die offer van die Messias as die Lam van God wat vir die sondes van die hele wêreld geoffer is (Heb. 10:5-12). Die grondplan van die tempel neem die vorm van ‘n kruis aan, waarop daar sewe verwysingspunte is waar die voorwerpe vir die tempeldiens geplaas word. Die een lyn begin by die buitenste poort, wat simbolies op Jesus dui – Hy is die poort deur wie ons toegang tot die heiligdom en genadetroon van God verkry. Die volgende punt op dié lyn is die brandofferaltaar wat na die offer van Jesus heenwys. Daarna is daar die koperwaskom of afspoelwaentjies, waarin bloed en water gemeng was – die bewys van ‘n volbragte offer (vgl. die bloed en water uit die sy van Jesus). Steeds op dieselfde reguit lyn kom ons in die tempel by die reukofferaltaar uit, wat na gebed in die Naam van Jesus wys. Deur gebed kry ons, deur die geskeurde voorhangsel heen, toegang tot die genadetroon in die Allerheiligste (die verste punt op die een reguit lyn), waar Jesus ons Voorspraak by die Vader is om versoening vir ons sondes te doen. Die ander lyn wat oor hierdie een sny om ‘n kruis te vorm, strek van die goue kandelaar af tot by die tafel met die toonbrode. Die brandende kandelaar verwys na Jesus as die lig van die wêreld wat deur middel van die olie van die Heilige Gees in die wêreld skyn, en die toonbrode na Jesus en sy Woord as die brood van die lewe.

Die volgende verwysing word in Openbaring na die opmeet van die tempel in Jerusalem gemaak, asook die ontheiliging daarvan: “En ‘n riet soos ‘n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad 42 maande lank vertrap” (Op. 11:1-2).

Johannes het die profesie oor die derde tempel ontvang 25 jaar nadat die tempel van Herodes (die tweede tempel) in 70 n.C. deur die Romeine verwoes is, dus kan dit slegs op ‘n toekomstige tempel betrekking hê. Hierdie derde tempel sal ná 3½ jaar deur die valse messias ontheilig word: “En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou” (Dan. 9:27). Die afskaffing van die Jode se offerdiens in die middel van die verdrukking sal saamval met die tyd wanneer die Antichris sy rol as militêre diktator aanneem, homself tot God verklaar en ook ‘n beeld van homself in die Allerheiligste van die tempel laat oprig: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel… En dié koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is” (Dan. 11:31,36).

Die Here Jesus het in noue aansluiting by Daniël na die gruwelike afgodsbeeld van die Antichris in die tempel verwys wat pas voor die aanbreek van die groot verdrukking (die laaste 3½ jaar van die verdrukking) in die tempel opgerig sal word: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting [die valse messias en sy beeld] waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug… Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:15-21). Die ontnugterde Jode sal dan vinnig vir hulle lewe moet vlug omdat die Antichris almal van hulle sal probeer uitwis wanneer hulle weier om hom of sy beeld te aanbid.

Paulus verwys ook na die Antichris se ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking wanneer hy homself tot God sal verklaar. Hy beskryf hierdie rebel as: “…die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4). In die Allerheiligste van die tempel waar die verbondsark is wat na die genadetroon van God verwys, sal die Antichris sy beeld laat oprig en eis om in God se plek deur alle mense op aarde aanbid te word.

In Openbaring 13 word die volle implikasies van die oprigting van hierdie afgodsbeeld in die tempel aangetoon. Dit sal die gedwonge aanbidding van die Antichris as die selfverklaarde god van hierdie wêreld behels, asook summiere doodstraf vir almal wat sal weier om hom as God te aanbid. Die valse profeet sal okkultiese lewe aan die beeld verleen: “En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie” (Op. 13:15).

Wanneer die Antichris homself tot God verklaar, sal hy nie net die Joodse offerdiens verbied nie, maar ook al die valse godsdienste, al het hulle hom ook vroeër as hulle gemeenskaplike messias aanvaar. Dan sal hy nie meer met die titel van wêreldmessias tevrede wees nie, maar daarop aandring om deur alle mense as God aanbid te word. Alle ander vorms van aanbidding sal daarna streng verbode en met die dood strafbaar wees.

Hoewel godsdiensleiers in Israel baie swak oor die koms van ‘n valse messias ingelig is, weet hulle goed dat daar eers ‘n tyd van groot oordele sal wees voordat die Messias as Koning oor die aarde sal heers. In die Ou Testament word na die tyd van oordele as “die dag van die Here” verwys. Die volgende is ‘n paar voorbeelde hiervan: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom” (Joël 2:31). “Naby is die groot dag van die Here, naby en baie haastig… Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs… ‘n dag van duisternis en donkerheid” (Sef. 1:14-15). Die vervulling van hierdie profesieë sal in die groot verdrukking plaasvind, en die sondaars sal weet dat die verskriklike dag van die Here aangebreek het (Op. 6:15-17). Hierdie oordele sal oor Israel en die ongelowige nasies kom omdat hulle lankal reeds die rug op die ware Messias gedraai het en tot oneer van Hom in ongeloof of dwalings verval en valse godsdienste aangehang het.

Stryd tussen die draak en die vrou

In Openbaring 12 is daar ‘n baie duidelike beskrywing van Israel waarin dié volk met ‘n vrou vergelyk word: "En 'n groot teken het in die hemel verskyn: 'n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof 'n kroon van twaalf sterre; en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barensnood. En 'n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het. En sy het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou 1 260 dae lank" (Op. 12:1-6).

Israel word hier met 'n getroude vrou vergelyk. Let daarop dat Israel in die Bybel dikwels met ‘n getroude vrou vergelyk word uit wie God se Seun na die vlees, Jesus Christus, gebore is. In Jesaja 54:5 en Hosea 2:15 word gesê dat die vrou, Israel, met God getroud is, en in Jeremia 31:4 word Israel ‘n jonkvrou genoem. In teenstelling hiermee word die Nuwe Testamentiese kerk altyd ‘n maagd genoem wat aan Christus verloof is en eers by die bruilof van die Lam as sy vrou aan Hom verbind sal word. Wat die simboliek van die ware kerk as ‘n rein maagd betref, is daar die gelykenis van die tien maagde in Mattheus 25:1-13, asook Paulus se stelling in 2 Korinthiërs 11:2 dat hy die gemeente as ‘n rein maagd aan Christus verbind het. Die vrou in Openbaring 12 het ‘n manlike kind gebaar wat al die nasies met ‘n ysterstaf sal regeer. Dit is Jesus Christus. Hieruit alleen is dit duidelik dat die vrou nie die kerk kan wees nie, want Christus is nie uit die kerk gebore nie. Hy is egter wél as die seun van Dawid uit die Joodse volk gebore.

Die vrou word verder gekwalifiseer deur die 12 sterre op haar kop wat op die 12 stamme van Israel dui, asook die son en die maan wat na Jakob en Ragel as stamvader en stammoeder wys (vgl. Jer. 31:11,15). Hierdie simboliek blyk duidelik uit 'n droom wat Josef gehad het, waarin die son, maan en elf sterre voor hom neergebuig het (Gen. 37:9-10). Jakob het geweet dat die droom op Josef se ouers en broers betrekking het. Onwaarskynlik soos dit in daardie stadium mag gelyk het, sou hulle later voor Josef neerbuig nadat hy koning in Egipte geword het. Josef was ‘n tipe van die Messias.

Openbaring 12:1-5 verstrek agtergrondinligting oor die historiese rede vir die draak se vyandigheid teen God, asook sy groot aanslag tydens Christus se geboorte, sodat die eindtydse manifestasie van die eeue-oue stryd tussen die vrou en die draak in die lig hiervan goed begryp kan word. Die verdere voortsetting van hierdie bloedige stryd aan die begin van die tweede helfte van die verdrukking (dit is tydens die 3½ jaar van groot verdrukking) word van vers 6 af beskryf. Die draak se aanvanklike uitwerping uit die hemel word in vers 3-4 beskryf, asook sy latere weerwraak teen God deur Jesus kort ná sy geboorte te probeer doodmaak.

Daar is mense wat nie hierdie verse as agtergrondinligting vir die verstaan van gebeure in die groot verdrukking beskou nie, maar as gebeurtenisse wat almal eers in die verdrukking sal plaasvind. Hulle verklaar die manlike kind (enkelvoud) dan as die 144 000 Jode wat in Openbaring 7 reeds as getuies van die Messias weergebore en verseël is. Hoe kan mense wat vroeg in die verdrukking al as getuies van Jesus verseël is, eers in Openbaring 12, wat gebeure in die middel van die week beskryf, gebore of weergebore word?

Die duiwel het egter wél tydens en kort ná Jesus se fisiese geboorte in Israel deur middel van Herodes se kindermoord ‘n groot poging aangewend om Hom dood te maak. Hy het nie daarin geslaag nie. In die gebeure rondom die kruisiging het hy in Judas, die Joodse volksleiers én Pontius Pilatus gevaar om Jesus oor te lewer om gekruisig te word. Jesus het egter die dood en die graf oorwin en hemel toe opgevaar. In die eindtyd, met Jesus se wederkoms, sal Satan weer ‘n poging aanwend om Hom dood te maak. Eers sal hy al die Jode en Christene probeer doodmaak in ‘n poging om alle verteenwoordigers van God se koninkryk op aarde uit te wis. Daarna sal Satan al die konings van die aarde aanhits om tydens Christus se wederkoms teen Hom te veg en Hom dood te maak (Op. 16:13-16; 19:19). Hierdie poging sal egter ook nie slaag nie, omdat die Here Jesus alle mag in die hemel én op aarde het (Matt. 28:18). Niemand kan teen Hom probeer veg en dit oorleef nie.

Satan het deur die eeue heen sy stryd teen God se koninkryk voortgesit deur God se volk (Israel) en God se gemeente (die kerk) te beveg. Nadat die bruidsgemeente weggeraap is, sal hy sy volle aandag aan Israel wy om hulle óf te mislei óf dood te maak sodat die Here se plan met hulle verydel kan word. Die Here sal egter op ‘n baie duidelike wyse tot hulle redding kom. In Openbaring 12 word die vlug van Israel voor die Antichris uit na die woestyn beskryf. Dit sal pas ná die ontheiliging van die tempel en die verbreking van Israel se amptelike verbond met die Antichris in die middel van die verdrukking plaasvind. Die Joodse regering sal dan tot 'n val kom en die politieke leiers sal saam met die godsdiensleiers en burgerlikes inderhaas na die woestyn toe moet vlug waar die Here ‘n oorblyfsel van Israel sal bewaar en onderhou.

Die vlug na Petra

Israel se vlug in die middel van die verdrukking na die woestyn toe (Matt. 24:15-22; Op, 12:6) sal na alle waarskynlikheid na Petra, suid van die Dooie See wees. In die lig van die moderne belangstelling in Petra, veral ook onder Jode, moet die historiese én eindtydse betekenis van hierdie plek goed begryp word.

Petra, wat “Rots” in Grieks beteken, is ‘n verlate stad suid van die Dooie See in Jordanië. In die antieke geskiedenis het dit as Seïr bekend gestaan, wat die hoofstad van Edom was. In latere eeue het die Nabateërs in die plek van die verdryfde Edomiete hier gewoon en hulle hoofstad Petra genoem. Petra is in ‘n lang skeurvallei geleë wat as die Kidrondal deur Jerusalem loop en daarna ook deur die Dooie See en verder suidwaarts. Waarskynlik het ‘n groot aardbewing en vulkaniese aktiwiteit hier plaasgevind en die aarde oopgeskeur sodat ‘n canyon met steil klowe en kranse gevorm is. Die oorblyfsels van die skouspelagtige stad bestaan uit tempels en grafkelders wat uit die groot formasies sandsteenrots gekap is. Daar is net ‘n nou skeur wat toegang tot die canyon bied, en dit kan maklik geblokkeer en afgesluit word. Dit is dus ‘n veilige ontvlugtingsplek.

‘n Indrukwekkende gesig begroet die reisiger wanneer die veelkleurige sandsteenformasies van die mees unieke en beroemdste spookdorp in die wêreld voor hom opdoem. Verder is daar die misterie van die stad se geskiedenis, asook die verwagting dat dit gedurende die groot verdrukking, volgens Openbaring 12:6, vir 3½ jaar lank ‘n ontvlugtingsplek vir ‘n oorblyfsel in Israel sal wees wanneer die Antichris hulle as volk sal probeer uitwis. Petra se rol in die geskiedenis is dus, ten spyte van sy absolute verlatenheid, nog nie verby nie.

In historiese tye het Israel verskeie oorloë teen die Edomiete in Seïr (die latere Petra) gevoer. Die intense vyandskap tussen Israel en Edom het by die geskiedenis van Jakob en Esau begin, want Jakob is die stamvader van die Israeliete en Esau van die Edomiete. “En Esau het gaan woon in die gebergte Seïr. Esau, dit is Edom” (Gen. 36:8). Esau het van Hebron na Seïr, die latere Petra, getrek en die stad, asook die landstreek wat daarna as Edom bekend gestaan het, in besit geneem. Eers moes hy die reuse wat daar gewoon het, verslaan: “Die Emiete het tevore daarin gewoon, ‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete... Ook het die Horiete tevore in Seïr gewoon; maar die kinders van Esau het hulle uit hul besitting verdrywe en voor hulle uit verdelg en in hulle plek gaan woon” (Deut. 2:10,12).

Die goddelose en aggressiewe geaardheid van Esau het die belangrikste karaktertrek van die Edomiete geword. In Eségiël 25:12-14 sê die Here dat Edom wraaksugtig teen Israel gehandel het, daarom sal Hy sy toorn deur Israel op Edom uitstort om hulle uit te roei. Hy sou hulle uit hulle vesting neerwerp en dit ‘n verlate plek maak: “Jou vreeslikheid het jou bedrieg, die vermetelheid van jou hart, o jy wat woon in die rotsklowe... Al maak jy jou nes so hoog soos die arend – daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die Here. So sal Edom dan ‘n voorwerp van verbasing word; elkeen wat by hom verbytrek, sal hom verbaas en spot oor al sy plae. Soos die omkering van Sodom en Gomorra met hulle bure, sê die Here, sal daar niemand woon en geen mensekind daar vertoef nie” (Jer. 49:16-18). Hulle veilige vesting sou dus ‘n spookdorp word.

Dit sou egter nie ‘n einde aan die stryd tussen Edom en Israel meebring nie. Baie van die Edomiete het met afstammelinge van Ismael getrou, wat Abraham se seun by ‘n Egiptiese slavin was, en sodoende met Israel se ander vyande vermeng geraak. Hulle is vandag nog as lede van verskillende Arabiese volke wat onder andere van Ismael en Esau afstam, met ‘n haat- en moordveldtog teen Israel besig. Hulle probeer steeds om Israel uit te wis.

Die Here het geregtigheid laat geskied toe Hy die ongelowige Esau se eersgeboortereg aan Jakob gegee het. Hy sal ook geregtigheid laat geskied as Hy Edom se verlate rotsvesting, Petra, in die groot verdrukking as ‘n skuilplek vir voortvlugtende Jode gebruik. Edom is weens hulle afgodediens en rebellie teen God as ‘n selfstandige volk deur die Here verdelg. Dit is die rede waarom hulle eens veilige stad in die berge ‘n spookdorp geword het. Hier, in die verlate Negef-woestyn, naby aan Israel se grens, sal die Here na alle waarskynlikheid ‘n oorblyfsel van sy volk teen die aanslae van die Antichris en sy anti-Israelse magte beskerm.

Israel se verwagte vlug na Petra in die tweede helfte van die verdrukking moet verstaan word in die lig van die feit dat daar in die eindtyd, as gevolg van wêreldwye vervolging, ‘n baie groot benoudheid soos ‘n donker wolk oor hierdie volk sal toesak. In Daniël 12 staan daar: “In dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word... ‘n Tyd, tye en ‘n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word... En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en 1335 dae bereik” (Dan. 12:1,7,11,12).

Die Living Bible vertaal Daniël 12:1 soos volg: “In hierdie tyd sal Migael, die magtige engel wat as ‘n vors oor jou volk waghou, in die hemel vir julle teen sataniese magte veg; en daar sal ‘n tyd van benoudheid vir Israel aanbreek wat erger as enige lyding in hulle ganse geskiedenis is; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam in die boek opgeskryf is.” Hieruit is dit duidelik dat alle aanvalle teen Israel, deur die eeue heen, satanies-geïnspireerd was. Nou, in die eindtyd, is dit ook nie anders nie – dit is die duiwel self wat die vyande van Israel aanhits om hierdie volk uit hulle besitting te probeer verdryf en hulle uit te delg. Hulle kry egter met die Here te doen, want Hy het aan Abraham gesê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3). Israel se vyande wek die toorn van die Here op.

Aan die begin van die 70ste jaarweek, soos in Daniël 9:27 beskryf, sal die Antichris ‘n verbond met Israel én baie ander nasies sluit. In die middel van die jaarweek, m.a.w. ná 3½ jaar, sal Israel hulle verbond met hom verbreek wanneer hy in die herboude tempel in Jerusalem sal ingaan en homself daar tot God verklaar. Hy sal almal dwing om hom as God te aanbid en Israel ook verbied om enige verdere offers aan Jahweh te bring. Daniël 11:31 sê van hierdie diktator: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.” Die ontsettende gruwel is ‘n afgodsbeeld van die Antichris wat in die Allerheiligste van die tempel opgerig sal word.

Die Jode sal die verpligte afgodery verwerp, dan sal die tyd van groot benoudheid aanbreek wanneer ‘n oorblyfsel van Israel inderhaas te voet na ‘n eensame plek in die berge sal moet vlug. Hulle sal van Jerusalem af na die ruwe en byna verlate berge langs die Dooie See vlug, en daarvandaan waarskynlik verder suid na Petra toe. Die Here Jesus het gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet dié wat in Judéa is na die berge vlug… wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie... En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22). Omstandighede vir oorlewing sal absoluut kritiek onder die voortvlugtendes wees.

Dit is duidelik dat dit ortodokse Jode sal wees wat uit Jerusalem en omstreke, waar die Ou Testamentiese sabbatswette verskeie jare gelede weer ingestel is, sal moet vlug. Op die sabbat mag hulle net omtrent ‘n kilometer ver stap – die afstand tussen Bybelse Jerusalem en die Olyfberg (Hand. 1:12) – wat beteken dat die Antichris se magte hulle maklik sal kan inhaal en doodmaak. Hulle moet ook bid dat hulle vlug nie in die winter sal wees nie, wanneer hulle vordering stadiger sal wees en hulle van blootstelling in die onherbergsame gebiede langs die Dooie See kan omkom.

Hierdie vlug word ook in Openbaring 12 beskryf: “En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou 1 260 dae lank. En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aankla voor onse God dag en nag… Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het. En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd [3½ jaar]. En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier ingesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het” (Op. 12:6-16).

Hierdie gedeelte sluit by Daniël 12 aan, waarin daar ook verwys word na die aartsengel, Migael, wat oorlog in die hemel sal voer. Die gevolg daarvan sal volgens Openbaring 12 wees dat die duiwel op die aarde neergewerp sal word, waar hy ‘n verskerpte stryd teen Israel en die nasies sal voer. Van daardie oomblik af sal hy toegang tot die troon van God ontsê word, waar hy die ware gelowiges dag en nag aangekla het. Dan sal hy na die aarde neerdaal met dubbele woede omdat hy sal weet dat hy min tyd het. In daardie tyd sal hy op ‘n nuwe manier in die Antichris vaar en hom ‘n gedaanteverwisseling van valse vredevors tot ‘n gewelddadige en magshonger diktator laat ondergaan. Die Antichris sal homself direk daarna in die tempel tot God verklaar en almal laat teregstel wat sal weier om hom as God te aanbid (Op. 13:15).

Hierna volg die laaste 3½ jaar van die verdrukking, wat as die groot verdrukking beskryf word. Dit sal 1260 dae lank wees, wat 42 profetiese maande van 30 dae elk is. Dit word ook as tyd, tye en ‘n halwe tyd beskryf, wat op seisoensjare dui, m.a.w. ‘n jaar, twee jare en ‘n halwe jaar. Dit is dieselfde as 1260 dae of 42 maande. Op hierdie oomblik sal Israel hulleself uit die Antichris se nuwe wêreldorde onttrek omdat hulle sal weier om hom as God te aanbid. Die Antichris sal woedend wees en ‘n Joodse volksmoord gelas, wat sal veroorsaak dat die Jode vinnig uit Jerusalem en omstreke na die berge toe sal moet vlug.

Sagaria 13:8-9 verwys na hierdie tyd van groot vervolging onder die Jode, waarin tweederdes in die land sal sterf en net ‘n derde na ‘n veilige plek in die berge sal ontvlug. In die Tweede Wêreldoorlog het 60% van die Jode in Europa omgekom, maar in die komende groot verdrukking sal ‘n effens groter persentasie van alle Jode sterf, naamlik tweederdes. Die komende verdrukking sal dus die ergste van alle tye wees – nie net vir Israel nie, maar ook vir die ongelowige nasies wat saam deur hierdie tyd sal gaan.

Hoewel dit nie uitdruklik in die Bybel gesê word dat die voortvlugtende Jode na Petra toe sal gaan nie, word dit duidelik deur historiese gebeurtenisse, omstandigheidsgetuienis en ‘n profesie oor Jordanië se posisie in die groot verdrukking geïmpliseer. Jode wat van Jerusalem af te voet berge toe vlug, sal om veiligheidsredes nie in die rigting van Egipte, Libanon, Sirië of die Middellandse See vlug nie omdat die invalsmagte van die Antichris uit hierdie rigtings sal kom en hulle maklik sal kan omsingel en uitwis. Hulle sal ook nie oos in die rigting van Amman vlug nie, omdat daar goeie toegangspaaie is waarop hulle maklik agtervolg en ingehaal sal kan word. Die enigste redelik veilige, hoewel ook die moeilikste begaanbare rigting vir hulle, sal van Jerusalem af suid en suidoos al langs die Dooie See af wees, wat ‘n baie bergagtige gebied is.

Volgens die Joodse geskiedskrywer, Joséfus, het groepe Jode na Edom en Petra ontvlug toe die Babiloniërs Juda ingeval en Jerusalem en die tempel in die sesde eeu v.C. verwoes het. Toe die Romeine Jerusalem en die tempel in die jaar 70 n.C. verwoes het, het baie van die Jode na die verlate berge langs die Dooie See gevlug. Sommige van hulle het tevergeefs op ‘n bergtop by Masada probeer skuil en teen die Romeine weerstand gebied. Ander het tot in Bosra en Petra suid van die Dooie See gevlug.

In die middel van die verdrukking, wanneer die Antichris homself tot God verklaar, sal die Jode in Israel in ‘n baie verswakte posisie wees. Volgens Daniël 9:27 en Johannes 5:43 sal hulle aan die begin van die sewejarige verdrukking ‘n vredesverbond met die Antichris sluit, in terme waarvan hulle óf sal ontwapen óf beheer oor hulle gewapende magte aan ‘n internasionale vredesmag sal oorgee, en onder verdere druk hulle land sal verdeel om vir ‘n Palestynse staat plek te maak (Joël. 3:2). In ruil hiervoor sal hulle veiligheid deur die valse “Messias” gewaarborg word en sal hulle ook die reg kry om die tempel in Jerusalem te herbou.

Wanneer Israel in die middel van die verdrukking hoogverraad teen die Antichris as selfverklaarde God en hoof van ‘n wêreldregering pleeg, sal hulle geen militêre, humanitêre of logistieke ondersteuning van enige aard hê nie. Hulle sal te voet, sonder padkos, net met die klere aan hulle lyf moet vlug. Gegewe hierdie besondere omstandighede kan aanvaar word dat hulle vlug nie vreeslik ver sal wees nie. Petra is omtrent 220 kilometer suidoos van Jerusalem af, en hoewel dit ‘n moeilike tog sal wees, is dit nie té ver vir voetgangers nie. Neem ook in ag dat die Here die aarde agter die vlugtende Israeliete sal laat oopskeur sodat hulle vyande hulle nie sal kan inhaal en oorrompel nie. Hierdie vlug en goddelike uitredding herinner baie aan Israel se vlug uit Egipte toe die Here die agtervolgende leërs van Farao by die Rooi See afgesny en verdelg het. Hy sal die voortvlugtende Jode in die woestyn onderhou, wat beteken dat Hy ook in hulle behoeftes aan kos en water sal voorsien, soos in die tyd ná hulle uittog uit Egipte.

Die opdrag aan die Jode is duidelik: “Vlug na die berge” (Matt. 24:16). Die berge in Israel is nie besonder hoog nie, op die hoogste omtrent 1200 meter. Hulle bied ook nie baie veilige beskutting nie. Hierteenoor is die berge by Petra die hoogste in Jordanië, omtrent 1500 meter hoog. Dit is van die mees ruwe en ontoeganklike berge in die wêreld. Dit sal baie moeilik vir die Antichris se magte wees om die Joodse ballinge hier te bereik. Die Jode sal beslis ook in die lig van Daniël 11:41 weet dat Jordanië ‘n veilige ontvlugtingsplek sal wees, omdat dié land uit die hand van die Antichris sal ontkom. Daar staan: “Hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.” Die gebiede van hierdie drie antieke volke stem met die huidige Jordanië se grense ooreen. In die lig van hierdie Bybelse profesie sou dit dus baie wys wees om na die verlate bergvesting van die Edomiete in Jordanië te vlug. Neem verder ook die feit in ag dat Petra tot ‘n wêrelderfenisgebied verklaar is wat nie aangeval, gebombardeer of op enige manier beskadig mag word nie. Dit maak nog soveel te meer daarvan ‘n veilige ontvlugtingsoord.

Dit is baie moontlik dat die eindtydse Joodse vlugtelinge volgens Psalm 60:11-12 sal bid: “Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom? Het U, o God, ons nie verwerp nie?”

Voortgesette pogings deur die Antichris om die Joodse vlugtelinge op te spoor en uit te wis, sal afgelas word omdat daar elders in die wêreld opstande teen sy ryk sal voorkom, wat hy sal moet gaan onderdruk: “Gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref” (Dan. 11:44). Sy belangrikste militêre basis en beheersentrum vir operasies sal in Israel wees, op die vlakte tussen Jerusalem en Tel Aviv: “Hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag [dit is tussen die Middellandse See en die Tempelberg]; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45). Hy sal van hierdie basis af sy groot militêre ontplooiing vir die slag van Armageddon reël, waar hy en sy magte tydens Christus se wederkoms verdelg sal word.

Koms van die Messias

Wanneer die ware Messias, Jesus Christus, aan die einde van die groot verdrukking terugkom, sal die slag van Armageddon sy hoogtepunt bereik. Die Antichris, die valse profeet, die konings van die aarde en hulle leërs sal hulleself versamel om oorlog te voer teen Jesus Christus en sy hemelse leër (Op. 19:19). Die antichristelike magte sal op verskillende plekke saamgetrek wees om die oorblyfsel van Israel te probeer uitwis en ook teen Jesus Christus self te veg. Volgens Sagaria 12 en 14 sal baie van hulle in en om Jerusalem ontplooi wees, omdat hulle sal weet dat Christus sy voet op die Olyfberg sal neersit. Joël 3 sê dat daar ‘n groot sametrekking in die dal van Jósafat sal wees, wat die Kidronvallei is. Volgens Openbaring 16:16 sal daar ook ‘n groot monstering van troepe in die vallei van Megiddo in Noord-Israel wees. Jesaja 63 dui aan dat die vyandelike magte tot by Bosra, net suid van die Dooie See, sal opruk voordat hulle gestuit sal word. Bosra is 40 kilometer suidoos van die Dooie See, omtrent halfpad tussen die Dooie See en Petra. Hierdie linies sal dus waarskynlik op pad wees om die Joodse vlugtelinge in hulle bergvesting in Petra te gaan aanval en verdelg.

In Jesaja 63 lees ons die volgende oor die wederkoms van die Messias, wanneer Hy die oorblyfsel van Israel sal uitred en Hom oor die vyande van sy koninkryk sal wreek: “Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos een wat die wynpers trap? Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun het nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun. En Ek het die volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop” (Jes. 63:1-6).

Die oorblyfsel van Israel sal só gehate en van al hulle voormalige vriende verlate wees, dat niemand hulle sal help wanneer die Antichris en sy wêreldmag hulle probeer uitdelg nie. Hulle Messias, Jesus Christus, sal op ‘n kritieke oomblik tot hulle redding kom en self hulle vyande uitwis. Hy sal die suidelike opmars sowat 40 kilometer van Petra af stuit. Die vyande van Israel én van God sal gedood word met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit, en al die voëls sal versadig word van hulle vlees (Op. 19:21). Die Olyfberg, waarop die Here Jesus met sy wederkoms sy voet sat sit (Sag. 14:4), sal middeldeur split. Hierdie berg sal dan ook ‘n ontvlugtingsplek aan Jode bied wat tot aan die einde deur die vyand agtervolg sal word. “Julle sal vlug in die dal van my berge... soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda” (Sag. 14:5).

Direk hierna sal daar ‘n tydperk van verlengde rouklag vir Israel oor hulle sonde aanbreek. In opregtheid van hart sal hulle dit bely en volkome daarmee breek: “In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem… En die land sal rouklaag by geslagte… In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 12:11-13:2). Die nasionale rouklag van Israel sal 30 dae lank duur, soos wat gebruiklik vir leiers soos Moses en Aäron was (Num. 20:29; Deut. 34:8).

In Daniël se skedule van eindtydse gebeure word daar, onder andere, vir Israel se 30 dae van rou ná die koms van die Messias aan die einde van die groot verdrukking voorsiening gemaak deur dit by die 1260 dae van die tweede helfte van die week te voeg: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en 1335 dae bereik” (Dan. 12:11-12).

Die volgende tydsbepaling is uit dié gedeelte duidelik: Van die tyd af dat die valse Messias die offerdiens sal verbied en die tempel ontheilig deur ‘n beeld van homself daarin te plaas, sal 1260 dae verloop totdat die ware Messias sy voete op die Olyfberg sit (Dan. 9:27; Op. 13:5). Ná ‘n verdere 30 dae van rou sal die geestelike vereniging tussen Israel en die Messias voltooi wees. Dan sal daar 1290 baie dramatiese dae verloop het sedert daardie donker dag van openlike rebellie teen die koninkryk van die hemel, toe die valse messias homself in die tempel tot God verklaar het. ‘n Verdere 45 dae sal deur die bruilofsmaal van die Lam, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem en die oordeel oor die nasies in beslag geneem word (Op. 19:7-9; Hand. 15:16-17; Matt. 25:31-32).

Wanneer die Messiasryk formeel begin, sal 1335 dae verstryk het sedert die aanvang van die valse Messias se skrikbewind toe sy afgodsbeeld in die tempel opgerig is. Jode wat hierdie verskriklike tyd oorleef, sal ná die 1260 dae van die groot verdrukking (Matt. 24:15-22) die koms van die Messias aanskou. Ná 1290 dae sal hulle geestelik met Hom versoen wees, en ná 1335 dae sal hulle die beloofde ryk van die Messias binnegaan. Dan sal ewige geregtigheid vir hulle as volk van God aanbreek terwyl die Messias uit Jerusalem regeer (Jes. 2:2-4).

Die wederkoms van Christus wat in Openbaring 19:11-21 beskryf word, sal in Israel plaasvind. In dié dag sal Hy sy voete op die Olyfberg sit, wat oos van die ou stad in Jerusalem is. Dit is die hoogste punt op die omringende berge van Judéa, en is presies dieselfde plek van waar Hy na die hemel opgevaar het: "En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge... Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!" (Sag. 14:4-5). Die Here Jesus sal saam met sy heiliges kom wat voor die sewe jaar van verdrukking reeds weggeraap en met Hom verenig is.

By hierdie geleentheid, wanneer die Olyfberg sal oopskeur en geweldige aardbewings oor die hele wêreld voorkom, sal daar 'n baie dramatiese versoening tussen die Here Jesus en die oorblyfsel van Israel plaasvind. Tydens die benoudheid van die groot oorlog van Armageddon sal hulle hul toevlug in die rotsskeure van die Olyfberg neem om die agtervolgende leërs van die Antichris te ontwyk. Duisternis sal oor die aarde toesak terwyl die oordele van God oor sy vyande uitgestort word (Sag. 14:6,12-13).

Wanneer die lig weer deurbreek, sal die Jode die spykermerke in die Here Jesus se hande sien, en vra: "Watter wonde is daar tussen u hande?" Dan sal Hy antwoord: "So is Ek geslaan in die huis van my vriende" (Sag. 13:6). Dit sal 'n hartroerende oomblik wees wanneer die oorlewende lede van die volk Israel groot berou oor hulle sondes sal hê, en veral die feit dat hulle vaders die ware Messias tydens sy eerste koms verwerp het: "Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megiddo. En die land sal rouklaag by geslagte" (Sag. 12:10-12). Jesus Christus sal die gelouterde, voortvlugtende en treurende oorblyfsel van sy volk aanneem en troos deur te sê: "Dit is my volk!" Hulle sal in antwoord hierop uitroep: "Die Here, my God!" (Sag. 13:9). Hierna sal Hy die vervalle hut van Dawid weer oprig (Hand. 15:16) en die wêreld uit Jerusalem regeer (Jer. 3:17).

Dit is baie duidelik dat die Here se vyande ook sy volk Israel se vyande is, daarom sal die slag van Armageddon in en om Israel plaasvind, met die middelpunt daarvan in Jerusalem. Hoewel Israel tans nog steeds die Messias verwerp, sal ‘n oorblyfsel van hulle inderdaad met die Messias versoen word en ‘n baie belangrike rol in die komende vrederyk op aarde speel.

 

 

13. Die Val van Babilon

Waarom is gebeure in Babilon (die huidige Irak) so geweldig betekenisvol vir die hele wêreld? Omdat daar hier, duisende jare gelede, onder die aanstigting van Satan besluite geneem is wat nog steeds alle mense op aarde ten nouste raak. Besluite oor die toekoms van die mensdom is nie alleen in antieke tye hier geneem nie, maar sal in die nabye toekoms weer hier geneem word. Dit is die rede waarom die geskiedenis van die rebelse mensdom, wat met ‘n Babiloniese sameswering in Genesis 11 begin het, in Openbaring 17 en 18 met ‘n soortgelyke sameswering teen die koninkryk van God sal eindig. Dit is betekenisvol dat die Bybel die eindtydse sameswering ook “Babilon” noem. Die drie uitstaande besluite wat met die omgewing van Babilon in verband staan, asook die implikasies daarvan vir alle mense op aarde, is die volgende:

Die sondeval. Die oorsprong van die mens kan na die tuin van Eden in die huidige Irak en omgewing teruggevoer word. Een van die vroegste name vir Irak was Mesopotamië – die land tussen twee riviere. Hierdie twee riviere is die Tigris en die Eufraat, wat albei deur die vroeëre tuin van Eden geloop het. ‘n Mens kan dus met goeie reg sê dat Irak en sy onmiddellike omgewing die gebied van oorsprong van die mens op aarde is. Die eerste tragiese besluit wat oor die lotgevalle van die mens geneem is, is onder die direkte beïnvloeding van die duiwel in die tuin van Eden geneem. Hier het Adam en Eva ‘n sondige natuur gekry omdat hulle die ware God se bevele verbreek en na ‘n valse god, Satan, geluister het. Hulle het geestelik gesproke onmiddellik gesterf en ook liggaamlik sterflike mense geword. Die dood het hulle aangekleef, en dit, saam met hulle sondige natuur, is deur oorerwing na hulle kinders, en dus na die hele menslike ras, oorgedra. Ons is almal sterflike sondaars wat self ook sonde doen. Romeine 5:12 sê dat deur een mens, Adam, die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring omdat almal gesondig het. Die duiwel het in Eden ‘n groot slag vir sy eie koninkryk geslaan toe hy die eerste mense verlei het om te sondig en daardeur teen God te rebelleer. Die gevolg hiervan was ‘n geestelik gevalle mensdom wat almal van nature na die sonde neig en dus maklik deur Satan gemanipuleer en mislei kan word.

‘n Babiloniese wêreldryk. Die tweede tragiese besluit wat die hele mensdom nadelig sou raak, is weens Satan se misleiding in Babilon langs die Eufraatrivier geneem, naamlik die bou van ‘n groot stad en die vestiging van ‘n Babiloniese wêreldstaat as ‘n verdere sameswering teen die koninkryk van God op aarde. Nimrod het hier die eerste goddelose wêreldryk gevestig wat ten nouste met ‘n valse wêreldgodsdiens saamgewerk het om die mensdom te verslaaf en te oorheers. Babilon het die destyds bekende wêreld polities, ekonomies én godsdienstig beheer, en deur middel van die toring van Babel okkultiese godsdienstige mag in opposisie teen God gevestig. Een van die latere konings van Babel, Nebukadnésar, het sy absolute vyandigheid teen God en sy volk gedemonstreer toe hy Jerusalem en die tempel verwoes, baie Jode doodgemaak en duisende ander as krygsgevangenes na Babel weggevoer het. Verskeie soortgelyke wêreldryke het in historiese tye ontstaan, bv. die Medo-Persiese, Griekse en Romeinse ryke, en ons is op die drumpel van die laaste een – die komende wêreldryk van die Antichris.

Selfs al is Babilon as stad verskeie kere in die geskiedenis gedeeltelik verwoes, het die idee van menslike selfverheffing binne die raamwerk van ‘n valse, mensgemaakte godsdiens, in verborgenheid onder die nasies voortbestaan en nog altyd sy verderflike invloed laat geld. Hierdie “Verborge Babilon” (Op. 17:5) is “die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (Op. 17:18), omdat hulle met haar geestelike owerspel bedryf het (Op. 17:2). Die Babiloniese tradisie van valse godsdienste het dus nog altyd voortgeleef en het steeds ‘n natuurlike voorliefde vir haar plek van oorsprong in Babilon. Een van die belangrikste gelowe wat uit haar voortgevloei het, is Islam, wat besig is om ‘n skrikwekkende magsbasis in die Midde-Ooste op te bou. Die Babiloniese oorheersing van die nasies is feitlik daagliks besig om uit te brei: nie alleen is Islam die grootste enkele geloof op aarde nie, maar Islamitiese olieproduserende state oefen ook ‘n groot beheer oor die wêreldekonomie uit. Die sogenaamde heilige oorlog (jihad) wat deur fundamentalistiese Moslemgroepe teen Israel, Amerika en verskeie ander lande verklaar is wat Moslembelange teëstaan, is besig om oral in die wêreld ‘n wisselende mate van vrees en paniek te saai. Twee van die sterkste moondhede op aarde, Amerika en Rusland, het al ‘n duur prys betaal omdat hulle Moslembelange teëgestaan het. Babilon is besig om ‘n groot eindtydse herverskyning in die Midde-Ooste te maak, en sy fanatieke ondersteuners het wêreldwye doelstellings vir die bevordering en verdere uitbreiding van hulle geloof. Hulle streef na universele erkenning vir “Allah” en die Koran.

Die Antichris se wêreldstaat. Die derde noodlottige besluit wat namens die hele wêreld in Babilon geneem sal word, staan in verband met die verbond wat die nasies in die eindtyd met die Antichris sal sluit. Waar sal hierdie leier gevestig wees? Twee van die Antichris se titels dui spesifiek daarop dat hy in die ou Assiries/Babiloniese magsgebied na vore sal tree en sy koninkryk se hoofkwartier daar sal vestig. In Jesaja 10 word hy die Assiriër genoem, en in Daniël 11 die koning van die Noorde. Beide hierdie titels dui op die gebied ten noorde en noordooste van Israel, wat soms as Assirië en soms as Babilonië bekend gestaan het. Die hartland daarvan is in die huidige Irak – daar waar die tuin van Eden aanvanklik was, asook die antieke Babiloniese ryk ná die sondvloed.

Die eindtydse Babiloniër, die Antichris, sal die geskiedenis van die rebelse nasies afsluit op dieselfde wyse as wat Nimrod daarmee begin het – as ‘n geweldenaar wat homself vergoddelik en ook die stad Babel sal bou. Volgens Openbaring 13:3-4 sal die hele wêreld in verwondering agter hom aangaan en hom ook aanbid, en volgens Openbaring 13:7 sal hy mag oor elke stam en taal en nasie kry. Daniël 9:27 sê dat hy met baie nasies ‘n sterk verbond sal sluit. Dit sal die derde groot sameswering wees wat in Babilonië geneem word, en wat die lotgevalle van al die nasies drasties sal verander. Die Here Jesus het in Johannes 5:43 die feit beklemtoon dat Israel ook verkeerdelik hierdie valse messias sal aanvaar en navolg.

Die ideologie van die Antichris se nuwe wêreldorde sal, as Satan se derde groot Babiloniese leuen, met die eerste twee leuens verband hou. Soos wat hy vir Eva in Eden gesê het, sal hy weer eens beweer dat die mens onsterflik en goddelik is (Gen. 3:4-5). Soos by die toring van Babel, sal die ideologie van internasionale eenheid in assosiasie met ‘n alliansie van valse gelowe ook aktief nagestreef word. Dit beteken dat alle gelowe onder die gemeenskaplike leierskap van die “kosmiese christus” as gelykwaardig beskou sal word. Aan die einde van die Antichris se ryk sal die Here se oordele oor Babilon in finale vervulling gaan – dan eers sal hierdie stad en sy geassosieerde afgodediens permanent verdelg word.

Die twee Babilons se finale vernietiging

Volgens Openbaring 17 en 18 is dit baie duidelik dat Babilon in die eindtyd weer sal herleef in afwagting op sy finale vernietiging. In Openbaring 17 word daar na die geestelike Babilon verwys, waardeur die groot rol van die valse godsdienste in die wêreldgeskiedenis uitgebeeld word. In Openbaring 18 word die fisiese handelstad, Babilon, wat in die huidige Irak is, beskryf, asook die voltrekking van die oordele wat oor die stad uitgespreek is. Die twee Babilons is ten nouste aan mekaar verbonde omdat die Babiloniese godsdiens ook in hierdie stad ontstaan het. Babilon word sedert 1978 deur Irak herbou, en in September en Oktober 1987 is die eerste fase van die herboude stad feestelik ingewy. Dit sluit die beroemde troonsaal van Bélsasar en die pilaargang van Isjtar in, asook hotelle en toeristegeriewe in die nuwe deel van die stad.

Om die huidige gebeure in Babilon reg te verstaan, moet dit in die lig van die stad se oorsprong en lang tradisie van rebellie teen God beoordeel word. Volgens Génesis 10:8-10 het Nimrod vir homself 'n koninkryk in Babel gevestig. Dit was nie alleen 'n politieke en ekonomiese ryk nie, maar het ook 'n sterk heidense godsdienstige inslag gehad. As 'n geweldenaar en kampvegter vir die mens het Nimrod homself in opposisie teen God gestel. Hy het nie net 'n koning vir die mens geword nie, maar ook 'n god.

Babilon was sedert sy vroegste bestaan die middelpunt en simbool van 'n God-verwerpende wêreldmag wat 'n alternatiewe, sataniese koninkryk aan die gevalle mensdom gebied het. Vir sy geestelike ankers het die stad na die kosmiese godewêreld uitgereik. Dit word deur die naam “Babilon” weerspieël, wat “Poort na die gode” beteken. Ná die taalverwarring is Babilon ook met die begrip “verwarring” geassosieer. Die poort na die gode was 'n tempeltoring (ziggurat) waarin die priesters opgeklim het om met die gode kontak te maak. Dit was 'n tempel met 'n traptoring bo-op. Deur middel van die spiraaltrap rondom die toring kon die bo-punt daarvan bereik word. Dit is deur die priesters gebruik as 'n plek waar hulle gemediteer en een met die kosmiese wêreld geword het. Waarnemings met die oog op sterrewiggelary is van daardie uitkykpunte af gedoen. Die groot toring van Babel was deel van 'n gebouekompleks wat as die tempel van Mardoek bekend gestaan het.

Profesieë oor die val van Babilon is só duidelik en absoluut dat daar geen tydperk in die vroeëre of latere Babiloniese en Assiriese geskiedenis aangetoon kan word toe dit ten volle vervul is nie. Neem die volgende uitsprake in ag: "So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie, en geen herders sal hulle vee daar laat lê en rus nie" (Jes. 13:19-20). Jeremia sê oor die verwoesting van Babilon: "En hulle sal uit jou geen klip neem vir 'n hoek of 'n klip vir fondamente nie; want jy sal ewige wildernisse wees, spreek die Here" (Jer. 51:26).

Dr. J.A. Seiss het in 1865 reeds in sy Lectures on the Apocalypse gesê dat die stad Babilon herbou sal moet word sodat die Here dit soos Sodom en Gomorra totaal kan vernietig om van geslag tot geslag nooit weer bewoon te word nie. Hierdie vernietiging is 'n eindtydse gebeurtenis wat volgens Jesaja 13:6 in "die dag van die Here" sal plaasvind en dus met die slag van Armageddon aan die einde van die groot verdrukking sal saamval. Clarence Larkin het in sy boek Dispensational Truth in 1918 aangetoon dat Babilon nog nooit heeltemal vernietig en onbewoon was nie. Jeremia 51:26 se profesie dat daar ná die finale vernietiging van die stad geen boustene van Babel se ruïnes gebruik sal word nie, moet nog vervul word. Inderwaarheid is verskeie dorpe en stede reeds met boustene uit die puinhope van Babel opgerig. Voordat die huidige herbouing van Babilon in 1978 begin het, is daar ook deur mense in die omgewing aansienlike hoeveelhede bakstene vir bouwerk van dié terrein af verwyder. Verder is daar die feit dat van die ou fondamente weer herbou word, en dit dui ook daarop dat Babilon se finale vernietiging beslis nog toekomstig is.

In Openbaring 17 praat Johannes van mistieke Babilon wat 'n ekumeniese liggaam van valse godsdienste is, en in Openbaring 18 van Babilon as 'n handelstad wat ook 'n belangrike sentrum vir ydele vermaak en boosheid sal wees. Beide hierdie hoofstukke is op die veronderstelling van 'n herboude Babilon gebaseer. Die eerste Babilon word genoem "Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde" (Op. 17:5). Omdat Babilon as stad die versinnebeelding, tuiste en oorsprong van die belangrikste heidense godsdienste is, word die eindtydse, valse alliansie van wêreldgodsdienste met hulle sterk Oosterse mistiese inslag op 'n baie gepaste wyse as mistieke of verborge Babilon beskryf. Daar is reeds verskeie multigodsdienstige liggame in die wêreld, waarin alle denkbare gelowe met mekaar assosieer en ter wille van wêreldvrede en -eenheid saamwerk. Hieronder is ook vervalle Protestantisme, omdat daar verskeie sogenaamde Christenleiers is wat volle “broederlike” erkenning aan die nie-Christelike gelowe in die wêreld verleen. Hierdie groepe sal vroeg in die verdrukking 'n enkele ekumeniese liggaam onder die leiding van die valse profeet vorm nadat hulle die Antichris as hulle gemeenskaplike, universele messias aanvaar het.

Die ekumeniese godsdiens van die verdrukking word in Openbaring 17:5 deur 'n ontugtige vrou voorgestel wat op die dier se rug ry. Dit dui op 'n antichristelike huwelik tussen godsdiens en politiek in die ryk van die dier. Volgens Openbaring 17:9-10 en 18 het dié ontugtige vrou ál die vorige wêreldryke beheer deur hulle aan 'n heidense godsdiensstelsel te verbind. Haar invloed moet dus nie onderskat word nie, want haar vermoë tot die misleiding van die nasies is geweldig groot. Sy sal haar miljoene volgelinge in die verdrukking oorreed om die Antichris aan te hang. Getrou aan haar ware karakter, sal sy fanaties teen evangeliese Christene gekant wees wat haar goddelooshede openbaar maak en hulle nie by haar wil skaar nie. Soos wat sy deur die eeue heen Jode en Christene vervolg het, sal sy in die komende verdrukking nog in 'n meerdere mate doen. Johannes beskryf haar as totaal moorddadig teenoor Christelike teëstanders wat haar dwalings verwerp: “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus" (Op. 17:6).

Hierdie slegte vrou se natuurlike aangetrokkenheid tot die stad Babilon waar sy haar vroegste oorsprong het, sal daartoe lei dat sy haar hoofsetel weer na Babilon sal verskuif. Volgens 'n profesie in Sagaria 5:5-11 sal sy na die land Sinear, dit is Babilonië, verskuif word wanneer daar vir haar ‘n huis gebou is. Haar verskuiwing sal ‘n hoë prioriteit wees, want dit sal in groot haas geskied.

Mistieke Babilon, as die bruid van die Antichris, gaan nie 'n lang en gelukkige huwelik hê nie. Sy sal net vir 3½ jaar op die dier se rug ry, en groot voorregte en aansien in sy koninkryk geniet voordat sy afgegooi en haar godsdienstige organisasies nietig verklaar sal word. Daar kan dus reg uit die staanspoor 'n min dae-kalender gehou word waarop die dae van haar kortstondige glorie afgemerk kan word – 1260 dae van haar huweliksdag af tot by haar verwerping wanneer haar rol uitgedien sal wees. Sy sal dan ‘n ultimatum ontvang om die Antichris nie meer net as Messias nie, maar as God te aanbid. Weiering om hieraan te voldoen, sal deur openbare teregstelling strafbaar wees: "En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand" (Op. 17:16). Dit sal in die middel van die verdrukking gebeur wanneer die Antichris homself tot God verklaar – dan sal hy nie meer as universele messias vir 'n alliansie van wêreldgodsdienste beskikbaar wees nie. Alle gelowe sal dan verbied en hulle aanbiddingsplekke verwoes of vir ander doeleindes aangewend word. Hierna sal net sy finale godsdienstige doelstelling geld, naamlik om as God aanbid te word.

Wat 'n twyfelagtige voordeel sal mistieke Babilon nie geniet vir die groot prys wat sy sal moet betaal om guns in die dier se oë te vind nie! Sy sal haar gewete moet verkrag, haar rug op die lewende God en sy Seun, Jesus Christus, draai, bereid moet wees om gruwelik misbruik te word, en boonop nog 'n verbond met die dood sluit – dit alles vir die spreekwoordelike pot lensiesop!

Internasionale sentrum

Die herboude stad Babilon sal volgens Openbaring 18 teen die einde van die verdrukking ‘n groot rol as politieke-, handels- en vermaaklikheidsentrum speel. Daar kan verwag word dat wanneer die Antichris dit tot sy hoofstad verklaar, bouprojekte gelyktydig deur alle nasies daar onderneem sal word om hulle diplomatieke en ekonomiese gesantskappe te huisves. Die stad sal 'n kosmopolitiese karakter hê en in die kort ryk van die dier 'n samevloeiingspunt vir verskeie tale, kulture en godsdienste wees. Hier het die verskillende volke met die taalverwarring uitmekaar gegaan, en dit sal nie verbasend wees as 'n poging aangewend word om hulle weer hier bymekaar te bring nie! Soos Babilon van ouds, moet hulle deur 'n gemeenskaplike visie en die najaag van gemeenskaplike ideale in 'n nuwe eenheidsverband saamgesnoer word. In die dae van antieke Babilon, 4 500 jaar gelede, is die eerste verenigde nasies-konferensie op rekord op die vlaktes van Sinear gehou. Die afgevaardigdes het gesê: "Kom, laat ons vir ons 'n stad bou en 'n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie" (Gen. 11:4).

In moderne tye sal hierdie verklaring van voorneme moontlik só klink: "Kom, laat ons saamwerk en vir ons in die Midde-Ooste 'n stad bou wat 'n simbool van wêreldeenheid sal wees. Laat ons 'n universele godsdiens beoefen waarin alle mense erken dat hulle broers en susters is wat dieselfde God aanbid. Laat ons vir onsself een monetêre stelsel, een regering en een maatskaplike orde van wêreldburgers vestig waarin almal dieselfde internasionale handves vir menseregte onderskryf. Alleen dán sal daar harmonie en eenheid onder alle mense wees, en sal hulle nie in selfgesentreerde en onafhanklike nasionale groepe die aarde bewoon en mekaar voortdurend beveg nie." Die ideologie van die moderne toring van Babel is wêreldwyd reeds goed gevestig. Die finale implementering daarvan sal in groot haas en te midde van koorsagtige entoesiasme geskied, en sal die einddoel van die huidige inisiatief vir ‘n nuwe wêreldorde wees.

Aan die einde van die groot verdrukking sal die finale ondergang van die herboude Babilon aanbreek (Op. 14:8; 16:17-19; 18:2,8-10,21). Uit die betrokke skrifgedeeltes is dit duidelik dat daar nie van 'n geleidelike verval en agteruitgang van die stad oor eeue heen gepraat word nie. Die vernietiging van Babilon sal in een uur plaasvind. Soos in die geval van Sodom en Gomorra, sal dit deur vuur verteer word (Op. 18:8-10,18; Jes. 13:19; Jer. 50:40). Dit sal met 'n groot aardbewing en aanhoudende donderslae en weerlig gepaard gaan, en dan sal die stad met 'n gedruis in 'n poel van vuur wegsink om nooit weer opgebou of bewoon te word nie (Op. 16:17-19; 18:21). Die rook van haar verbranding sal donker wolke oor die vlaktes van Sinear laat opstyg wat selfs van skepe af op die Persiese Golf gesien sal kan word (Op. 18:17-18). Die handelaars en seevaarders sal almal die verwoesting van hierdie stad met sy rykdom, prag en praal beween.

Op die plek waar Babilon gestaan het, sal net 'n verlate krater wees. Oorblyfsels van sy verwoeste paleise en kastele sal in die krater gesien kan word, maar dit sal 'n skuilplek vir wilde diere en onrein voëls wees (Jes. 13:21-22; Op. 18:2). 'n Onheilspellende stilte sal gedurende die vrederyk hier heers, en niemand sal ooit weer hier woon of selfs net hier oornag nie. Die Arabiese veewagters wat in die omgewing vertoef, sal sorg dat hulle voor donker van hierdie grillerige plek af weg is (Jes. 13:19-20).

Dit is die uiteinde van 'n koninkryk, 'n ideologie én 'n gemeenskap wat die rug op God gedraai, sy gesag en genade versmaai en openlik teen Hom gerebelleer het. Kinders van die Here moet hulleself nie in ekumeniese, Babiloniese godsdienste bevind nie, en ook nie in die herboude stad Babilon nie: "Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie" (Op. 18:4).

Dit is egter duidelik dat die moderne wêreldleiers ‘n koers weg van die Here en sy Woord af ingeslaan het, omdat dit nie vir hulle “polities korrek” is om van regeringskant af net met een godsdiens te identifiseer nie. Om hierdie rede word die Christendom met ander gelowe gelykgestel, en dit baan noodwendig die weg na ‘n multigodsdienstige bedeling – ook op internasionale vlak. Sodoende bou hulle aan ‘n Babiloniese samelewingsorde waarin die mens homself ter wille van vrede en eenheid op aarde in ‘n ekumeniese organisasie van valse godsdienste verskans. Hierdie eindtydse toring van Babel is egter net so seker gedoem om onder God se oordele te val, as wat die eerste toring van Babel op die vlakte van Sinear langs die Eufraatrivier geval het.

 

14. Die Wederkoms van Christus

Tydens die slag van Armageddon, op die laaste dag van die groot verdrukking, sal Jesus Christus op ‘n wit perd op aarde verskyn, gevolg deur ‘n hemelse leër én al sy heiliges, en tot die stryd teen sy vyande toetree: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer” (Op. 19:11-15).

Die wederkoms van Jesus wat in Openbaring 19 beskryf word, sal soos die weerlig van oral af gesien kan word, maar fisies kom Hy na Jerusalem terug, na dieselfde plek op die Olyfberg van waar Hy na die hemel opgevaar het. “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant... Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:4-5). Die Here Jesus kom dus saam met sy heiliges wat voor die verdrukking reeds weggeraap en met Hom verenig is. In hulle verheerlikte liggame sal hulle saam met Hom geopenbaar word.

Die Antichris se laaste groot teiken sal Jesus Christus self en sy hemelse leërmag op die dag van sy wederkoms wees. Hy sal besef dat die ware Messias se koms die einde van sy koninkryk en nuwe wêreldorde sal beteken, daarom sal hy alles in die stryd werp om teen Christus te veg. Dit sal egter ‘n hopelose poging wees, omdat die Here Jesus die Koning van die konings is wat alle mag in die hemel én op aarde het. Daniël sê hierdie magtige koning wat ‘n skrikbewind op aarde gevoer het, “sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45). Johannes sê: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21).

Die dal van beslissing

Die wyse waarop die nasies in Israel versamel sal word, sal wees deur bose geeste los te laat wat hulle in die verhardheid van hulle bose harte verder sal verlei om na die Midde-Ooste op te trek en teen Christus en sy hemelse leër, asook teen Israel, oorlog te voer. Johannes sê hierdie onreine geeste is “geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God... En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon” (Op. 16:14-16). Hulle sal onder die persoonlike aanvoering van die Antichris en die valse profeet optrek om teen die Koning van die konings te veg. Hierdeur sal hulle hul eie lot in die poel van vuur verseël.

Op die dag van Jesus Christus se wederkoms sal groot dele in Israel ‘n slagveld wees waar die vyande van God verdelg sal word. Die kern van die stryd sal in die Kidronvallei in Jerusalem wees, wat ook as die dal van Jósafat, of die dal van beslissing, bekend staan. Die spruit Kidron was in Bybelse tye die oostelike grens van Jerusalem. Die naam daarvan beteken “die swart spruit” as gevolg van die vuil afvalwater wat hierin gevloei het. Dit was ‘n onooglike terrein wat ook ‘n begraafplaas vir armes was. Afgode is dikwels hier vernietig en tot stof vermaal. Van die godvresende koning Josía word gesê: “En hy het die Asjéra uit die huis van die Here buitekant Jerusalem uitgebring na die spruit Kidron en dit by die spruit Kidron verbrand en dit tot stof vermaal… Hy het ook die Tofet verontreinig wat in die dal van die kinders van Hinnom was" (2 Kon. 23:6,10).

Die Kidrondal sluit suid van die stad by die Hinnomdal aan, en staan daarvandaan as die vuurdal bekend. Die Hinnomdal (ge Hinnom) is die dal van die seuns van Hinnom. Hierin was die Tofet waar die afvallige Israeliete hulle kinders deur verbranding aan die afgod Molog geoffer het. Afval uit die stad is ook hier gestort en aan die brand gesteek. Die dal van Hinnom het ‘n simbool van die hel geword as gevolg van die brandende afval en ook weens die houtstapels vir die offer van kinders aan Molog. In die Talmoed, ‘n Joodse boek van godsdienstige oorlewerings, word gesê dat een van die poorte na die hel in die dal van Hinnom is, op ‘n plek waar rook tussen twee palmbome uit die grond opstyg.

Op grond van dié beskouing is die naam van hierdie dal in die Nuwe Testament van “ge Hinnom” na “gehenna” verander. Dit beteken “die helse vuur” (Matt. 5:22). Die Here het gesê dat hierdie dal se naam na Moorddal verander sou word: “Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seuns van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie. En die lyke van hierdie volk sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak” (Jer. 7:32-33).

Hierdie dal sou sinoniem met ‘n plek van dood, verderwing, vertering deur wurms, en verbranding word, daarom is die naam vir die hel, gehenna, hiervan afgelei. Jesaja verwys ook na die aaklige lot van die mense wat van God afvallig word: “En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees” (Jes. 66:24).

Die feit dat die dal van Kidron en Hinnom op die dag van die wederkoms van Jesus vol vyandige magte sal wees, en daardie omgewing ook die ontmoetingspunt tussen ‘n hemelse leër en die leërs van die Antichris sal wees, bring mee dat die twee groot eindtydse afgode van die hele wêreld, die Antichris en die valse profeet, hier in die openbaar gevange geneem, verdelg sal word en in die poel van vuur sal neerdaal.

Daar is ook verdere historiese getuienis wat op die groot eindtydse betekenis van die dal van beslissing dui. Tydens die bewind van Jósafat het die Moabiete, Ammoniete en die Edomiete saamgespan om alle Jode in die land dood te maak. Hulle het met ‘n groot oormag teen Jerusalem opgetrek en op die Olyfberg gekamp, met die bedoeling om die volgende dag deur die Kidronvallei te trek en die stad aan te val. Die Edomiete van Seïr af (die huidige Petra) het die leiding in die koalisie geneem.

Die Here het vroeër deur Jahásiël die volgende boodskap aan sy volk gestuur: “Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Jósafat! So sê die Here aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God” (2 Kron. 20:15). “Jósafat” beteken “God het geoordeel.” Die Here het direk tot die stryd teen Juda se vyande toegetree. Hy het ‘n verwarring onder die vyande bewerk sodat hulle almal mekaar doodgemaak het: “Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp. En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, lê hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie” (2 Kron. 20:23-24).

Ná hierdie slagting is daar ‘n geweldige groot buit deur Juda ingesamel: “Daarop het Jósafat en sy manskappe gekom om die buit in te samel en hulle het by hulle ‘n menigte goed en klere en kosbare voorwerpe gekry, en het soveel vir hulle gebuit dat hulle dit nie kon wegdra nie; en hulle was drie dae lank besig om die buit in te samel, want dit was groot” (2 Kron. 20:25).

Ná hierdie groot oorwinning is die Kidronvallei ook die dal van Jósafat genoem. Joël verwys na die Here se vernietiging van Israel se vyande onder die aanvoering van die Edomiete as ‘n voorbeeld, of tipe, van wat by die slag van Armageddon sal gebeur: “Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Jósafat; want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom... want naby is die dag van die Here in die dal van beslissing” (Joël 3:12,14).

Weer eens sal hulle verward raak en mekaar doodmaak: “En dit sal die plaag wees waarmee die Here die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer terwyl hulle nog op hul voete staan... In dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander. En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van al die nasies rondom sal ingesamel word: goud en silwer en klere – ‘n groot hoeveelheid” (Sag. 14:12-14).

Versoening met Israel

By hierdie geleentheid, wanneer die Olyfberg sal oopskeur en geweldige aardbewings oor die hele wêreld voorkom, sal daar ‘n baie dramatiese versoening tussen Jesus en die oorblyfsel van Israel plaasvind. Tydens die monstering van antichristelike magte in en om Jerusalem, asook in ander dele van Israel en die Midde-Ooste, sal die Jode wat na die woestyn toe gevlug het, ten spyte van die groot gevaar wat dit vir hulle sal inhou, na die Olyfberg optrek om die koms van die Messias in te wag. Hulle sal volgens die profesieë in Daniël 12 weet dat daar 3½ jaar sal verloop sedert die dag toe die valse messias hom in die tempel tot God verklaar het, totdat die ware Messias sy verskyning sal maak. Daniël 12:11 sê: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop.” Daar sal dus ‘n afgemete tydperk verloop wat in dae afgetel kan word.

Net voordat die Groot Versoendag van die einde van dié tyd aanbreek, sal die Jode ongewapend maar in vaste vertroue in die koms van die Messias na die Olyfberg optrek. Tydens die benoudheid van die groot oorlog van Armageddon sal hulle na Jerusalem gaan. In ‘n stadium sal hulle uitwissing in die gesig staar en dink dat hulle hoop verlore is, dat dit klaar met hulle is. Dan sal die Messias kom, die Olyfberg sal middeldeur split en die duisternis van God se oordele oor die vyande van Israel en hulle valse leier toesak. Die optrekkende Jode sal hulle toevlug in die rotsskeure van die Olyfberg neem om die agtervolgende leërs van die Antichris te ontwyk.

Die Jode sal baie verbaas wees om op dié dag te sien dat hulle Messias, soos deur Sagaria beskryf, merke in sy hande het. Wanneer hulle die spykermerke in Jesus se hande sien, sal hulle vra: “Watter wonde is daar tussen u hande?” Dan sal Hy antwoord: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6). Dit sal ‘n hartroerende oomblik wees wanneer Israel onder die oortuiging van die Heilige Gees groot berou oor hulle sondes sal hê, en veral oor die feit dat hulle vaders die ware Messias tydens sy eerste koms vals beskuldig en verwerp het. Jesus sal die treurende oorblyfsel van sy volk aanneem en troos deur te sê: “Dit is my volk!” Hulle sal in antwoord hierop uitroep: “Die Here, my God!” (Sag. 13:9).

Jesaja sê: “Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die Here” (Jes. 59:20). Lank voor die tyd het Moses al vir Israel gesê: “[As] jy jou tot die Here jou God bekeer en na sy stem luister net soos ek jou vandag beveel, jy en jou kinders, met jou hele hart en met jou hele siel, dan sal die Here jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm” (Deut. 30:2-3). Paulus sê: “…en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26). Dit sal op een dag gebeur (Sag. 3:9; 13:1), wat vir Israel ‘n Groot Versoendag sal wees.

Die binding van Satan

Nadat die vyande van God oorwin is en die Antichris saam met die valse profeet en hulle volgelinge geoordeel is, sal die duiwel in ‘n plek van bewaring opgesluit word: “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word” (Op. 20:1-3). Tydens sy binding sal hy die nasies nie kan verlei nie.

Die beskrywing van die binding van die duiwel vorm ‘n eenheid met die gebeure in Openbaring 19, en is dus een van die gevolge van die wederkoms van Jesus. Dit vind net ná die finale oordeel oor die Antichris en die valse profeet plaas, en is nie ‘n gebeurtenis wat van hierdie konteks vervreem, duisende jare teruggeskuif en op die kerkbedeling toegepas kan word nie. Aan die kruis is die oorwinning oor die duiwel wél in beginsel behaal, en ons kan dit ook in die geloof aanneem en ‘n oorwinnende lewe lei. Dit beteken egter nie dat die Satan op Gólgota vernietig of van die stryd uitgeskakel en iewers ingekerker is nie. Inteendeel, Jesus verwys na hom as “die owerste van hierdie wêreld” (Joh. 14:30) en Paulus beskryf Satan en sy demone as “die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu” (Ef. 6:12). Petrus sê die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). Hierdie waarskuwing oor ‘n stryd teen Satan word aan Christene gerig, sodat hulle waaksaam en nugter kan bly en hulleself met die geestelike wapenrusting van God beklee. Ons kán in die oorwinning van Gólgota leef, maar dit sal nie sonder hewige aanslae deur die sielevyand gebeur nie.

Die vrede van die Here wat ons as verlostes ervaar, beteken nie dat ons reeds in die duisendjarige vrederyk is nie. Die huidige stryd teen die duiwel en sy bose magte is nie te versoen met ‘n toestand waarin hy gebind is en dit bo hom verseël is sodat hy die nasies nie kan verlei nie. Ons is nog nie in só ‘n situasie van vrede nie, maar in ‘n stryd wat reeds deur die hele Nuwe Testamentiese bedeling voortduur en in die komende verdrukking ongekende afmetings sal aanneem (Matt. 10:34; Op. 6:4). Satan self sal die nasies aanhits om tot militêre geweld oor te gaan, na die Midde-Ooste op te trek, Israel te probeer uitwis en selfs teen die Here en sy leërs te veg.

Dit is eers met die wederkoms dat die magspel van die sataniese driemanskap vernietig, twee van hulle in die vuurpoel gewerp en die draak in ‘n verseëlde plek aan kettings van duisternis oorgegee sal word om daar in bewaring gehou te word terwyl Christus op aarde regeer. Aan die einde van die duisend jaar sal hy vir ‘n kort tydjie losgelaat word om sy laaste rebellie op aarde te stig, en daarna vir ewig tot die poel van vuur veroordeel word (Op. 20:7-10).

Die troon van heerlikheid

Hierdie oordeel sal ná die wederkoms van Jesus Christus plaasvind, net voor die instelling van sy duisendjarige vrederyk op aarde. Nadat Christus by sy wederkoms met die oorblyfsel van Israel versoen en hulle almal gered is, sal Hy Homself tot die oorblyfsel van die nie-Joodse nasies wend en hulle as individue in twee groepe verdeel – die gereddes en ongereddes:

“Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei… Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom… Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringste van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25:31-41).

Die uitdrukking “hierdie broeders van My” verwys duidelik na ‘n derde groep wat nie onder die bokke of skape is nie. Die enigste moontlike groep wat dit kan wees, is die Jode, want hulle is die aardse volksgenote van Jesus. In die groot benoudheid en vervolging van die verdrukking sal die Jode ‘n baie moeilike tyd hê (Matt. 25:15-21), want die magte van die Antichris sal probeer om Israel heeltemal uit te wis. Lede van nie-Joodse nasies wat in hierdie tyd uit hulle pad sal gaan om Jode te help, sal daardeur te kenne gee dat hulle die Antichris se opdrag vir ‘n Joodse volksmoord verwerp, en dat hulle deur die liefde van die ware Christus gemotiveer word om ‘n helpende hand na die voortvlugtende Jode te reik. Dit sal baie gevaarlik wees om hulp van hierdie aard te verleen, omdat die Antichris dit as verraad sal beskou om die Jode wat hom verwerp het, op enige manier te help om te kan oorleef.

Die werke van hierdie nie-Joodse weldoeners sal hulle nie red nie, maar dit sal ‘n bewys van hulle redding wees. Hulle sal saam met Jesus Christus in sy koninkryk regeer, terwyl die verlorenes wat saam met die Antichris die Jode vervolg het, veroordeel sal word.

Die Bruilofsmaal van die Lam

Ná die wederkoms sal die bruilofsmaal van die Lam op aarde plaasvind. Johannes sê: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf – salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” (Op. 19:7-9).

Tydens die wederkoms sal die Here Jesus met sy bruid verenig wees, en daarna volg die groot fees en bruilofsmaal ná die troue. Dit sal 'n luisterryke geleentheid wees wat deur baie genooide gaste bygewoon sal word. Hieronder sal die bekeerde oorblyfsel van Israel wees wat kort tevore vir Jesus as Messias aanvaar het en nog nie verheerlikte liggame sal hê nie. Hulle sal nogtans by die fees wees, en hulle blydskap en vreugde sal volkome wees.

Regeer met Christus

Met die wederkoms sal die bruid in die oomblik van Christus se grootste triomf deel wanneer Hy as Koning van die konings na die aarde terugkeer, die mag van die vyand verbreek en ‘n regering van geregtigheid oprig waarin sy diensknegte saam met Hom sal regeer. Die Here Jesus sal as die Messias-Koning van Israel én die hele wêreld die troon van Dawid herstel en die lank verwagte Messiasryk vestig, waarna tereg as die duisendjarige vrederyk verwys word. Sy getroue diensknegte sal saam met Hom as konings regeer. Aan diegene wat in hierdie bedeling as getuies en gestuurdes van Christus getrou bevind is, sal Hy sê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19:17). Aan ‘n ander een wat minder produktief vir sy Heer gearbei het, sal Hy sê: “En jy moet wees oor vyf stede” (Luk. 19:19). Ons het nóú die geleentheid om onsself aan die Here toe te wy en vir Hom te werk. By die wederkoms sal Hy ons hiervoor beloon en ons sal in sy vrederyk saam met Hom regeer.

Eers dan sal daar ‘n regering van geregtigheid vir die hele wêreld ingestel word. Sondes soos wetteloosheid, gewelddadigheid, moord, aanrandings, diefstal en korrupsie sal heeltemal verdwyn – ook sal daar geen oorloë meer gevoer word nie. Dit is ‘n toestand wat net in die regering van die Messias kan heers, daarom het dit op ‘n bedeling betrekking wat eers ná sy wederkoms sal aanbreek. “Kyk, ‘n Koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg” (Jes. 32:1).

 

15. Die Millennium

Wanneer die Here Jesus na die aarde toe terugkom, kom Hy as Koning van die konings en sal ‘n regering van reg en geregtigheid vir die hele wêreld instel: “En die sewende engel het geblaas en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15). Dit sal ‘n Christelike nuwe wêreldorde wees wat al die goddelose regerings sal vervang en in hulle plek oor die nasies regeer.

Daniël sê in sy profesie oor die eindtyd dat die Seun van die mens met sy koms soos ‘n rots sal wees wat die aardse koninkryke totaal sal verbrysel en tot stof vermaal, en self in hulle plek sal regeer (Dan. 2:44-45). Sagaria sê: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:9). Dieselfde belofte oor sy koningskap op aarde is voor Jesus se geboorte aan Maria gemaak: “En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:31-32). Hierdie belofte moet nog vervul word.

Die troon van Dawid is nie in die hemel nie, maar op aarde. Die Here Jesus regeer nie nou in ‘n geestelike sin van die troon van Dawid af nie, want dié troon is sedert die Babiloniese ballingskap van Israel al vervalle en in onbruik. Jesus Christus sal hierdie troon in Jerusalem eers met sy wederkoms herstel en dan daarvandaan regeer: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17). Met die oog hierop sal die wederkoms van Christus met ‘n sterk proklamering van sy koningskap en mag gepaard gaan: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus” (Op. 12:10). Daar sal dus ‘n besliste bewindsoorname plaasvind.

Wanneer die Here Jesus, wat tans as Hoëpriester by die Vader se troon vir ons intree, na die aarde terugkom, sal Satan se mag en invloed op aarde verbreek en Christus se koninkryk ingestel word. Die duiwel sal dan nie meer die “owerste” en “god” van hierdie wêreld wees, in wie se mag die huidige verdorwe wêreld lê nie (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4; Ef. 6:12; 1 Joh. 5:19).

‘n Verdere bewys daarvan dat die duisendjarige koninkryk nie in die hemel is nie, is die feit dat daar nog inherente vleeslikheid en wanordelikheid onder die nasies sal wees, wat sal vereis dat hulle met ‘n streng hand regeer word. Hoewel die duiwel gebind sal wees en die mense nie tot openlike sondes sal kan verlei nie, sal hulle nog ‘n gevalle natuur hê wat gedissiplineer moet word. In Openbaring 12:5 en 19:15 word gesê dat Christus die nasies met ‘n ystersepter sal regeer. In hierdie toekomstige koninkryk sal sy getroue diensknegte saam met Hom regeer: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf: soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Op. 2:25-27).

Gedurende die Messiasryk sal die Here Jesus se troon in Jerusalem die ontmoetingspunt tussen die hemel en aarde wees, en dus die sentrum vir goddelike wysheid, gesag en ‘n regering van geregtigheid. Jesaja sê: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:2-4; kyk ook Jes. 24:23 en Sag. 8:22).

‘n Toestand soos hierdie waarin daar geen oorloë gevoer, geen militêre opleiding ondergaan of enige wapens vervaardig word nie, het nog nooit op aarde bestaan nie. Dit kan slegs op die toekomstige vrederyk betrekking hê. Gewelddadigheid en oorlogvoering sal nie voorkom nie omdat die duiwel gedurende die duisend jaar van Christus se regering gebind sal wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie. Ander vorms van sonde sal ook verdwyn en die hele wêreld sal slegs die Christelike godsdiens erken en aanhang: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jes. 11:9). Die name van die afgode sal nie eers genoem word nie (Sag. 13:2), gevolglik sal alle nie-Christelike godsdienste permanent van die aarde af verdwyn.

Jerusalem sal spontaan deur almal as hoofstad van die wêreld erken word, en daar sal geen vyandigheid of politieke spanning tussen individue of nasies bestaan nie: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie" (Jer. 3:17).

Die enigste vorm van wangedrag wat wél sal voorkom, sal laksheid wees deurdat sommige nasies sal nalaat om die Here te eer en te dien soos hulle moet. Dit sal nog steeds ‘n geval wees van: “die gees is gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). Hulle sal as gevolg daarvan deur vermanings en strafmaatreëls aangespreek word: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit al die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie" (Sag. 14:16-17).

Daar sal in hierdie tyd dus ‘n oorblyfsel van die nasies op aarde wees. Hulle sal sterflike mense wees wat as gevolg van hulle gevalle natuur nog steeds gered sal moet word om waarlik aan die Here te behoort. Volgens Sagaria 14:16-17 sal hulle wél die groot verdrukking en die slag van Armageddon oorleef, en hoewel hulle nie die nommer van die Antichris sal aanvaar nie, sal hulle nie aan Jesus Christus behoort voordat hulle hul sondes bely en Hom daadwerklik as Verlosser aangeneem het nie.

Daar is aanduidings in die Bybel dat die relatief klein oorblyfsel van die nasies direk ná die wederkoms van die Here Jesus almal saam met die oorblyfsel van Israel gered sal word. Sagaria sê dat met die wederkoms, die oorblyfsel van Israel rou sal bedryf wanneer hulle met die Messias versoen word (Sag. 12:10-14; 13:1,9). Mattheus dui aan dat alle nasies in hierdie rou en verootmoediging sal deel: “…en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:30).

Dit beteken dat die vrederyk met ‘n eerste geslag Christene sal begin. Omdat hierdie mense nog almal hulle Adamiese, sonde-geneigde natuur sal hê, sal die opkomende geslagte (soos ook nou) ongered gebore word en dus weergebore moet word om kinders van God te word. Om hulle te evangeliseer, sal die taak van die geredde Israel wees, wat ook nog sterflike maar weergebore mense sal wees. Hulle sal die evangelie na alle nasies uitdra: “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6).

Dit is uit Openbaring 20 duidelik dat daar gaandeweg ál hoe minder lede van die opkomende geslagte gered sal word. Wanneer die duiwel aan die einde van die vrederyk vir ‘n kort tydjie losgelaat word, sal miljoene mense as gevolg van hulle ongeredde toestand dadelik in sy mag val (Op. 20:7-9).

Die eerste opstanding

Die leer oor die twee opstandings kom duidelik in verband met die duisendjarige vrederyk ter sprake. Slegs hulle wat deel het aan die eerste opstanding, waarby ook ingereken moet word die ná-oes van die verdrukking, sal saam met Jesus Christus in sy ryk regeer. In Openbaring 20 word gesê dat die twee opstandings ‘n duisend jaar uitmekaar is. Johannes verwys na Christenmartelare wat in die eerste opstanding opgewek sal word om in die duisendjarige vrederyk op aarde as konings saam met Jesus Christus te regeer:

"…en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding [waaraan die ander dode wat ongered is, nie deel het nie]. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank" (Op. 20:4-6). Diegene wat deel het aan die eerste opstanding, word salig genoem. Dit is dus ‘n besonder bevoorregte posisie om deelgenote hiervan te wees.

Daar is in verskeie ander gedeeltes in die Bybel onweerlegbare getuienis dat die heiliges eerste opgewek sal word. In 1 Korinthiërs 15 word daar na ‘n orde van opstandings verwys wat ‘n lang tyd ná mekaar plaasvind: "Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee" (1 Kor. 15:20-24).

Daar kan ‘n tydsgaping van omtrent 2000 jaar wees tussen Christus as die “eersteling” wat opgewek is, en “daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.” Uit Openbaring 20 is dit duidelik dat daar ‘n verdere 1000 jaar tussen die eerste opstanding en die einde sal verloop wanneer die res van die dode opgewek sal word om hulle oordeel voor die groot wit troon te ontvang.

Let ook op die volgende voorwaardes verbonde aan deelgenootskap aan die eerste opstanding: "Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry… sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik" (Fil. 3:8-11).

Wat bedoel Paulus hiermee? Elkeen sal tog opstaan – dit word duidelik in die Bybel geleer. Wat is dan hierdie opstanding waarvoor Paulus homself beywer en alles inspan om dit te verkry? Dit kan tog nie ‘n algemene opstanding wees nie, want daaraan sou hy in elk geval deel hê. Dit moet ‘n heel besondere opstanding wees waaraan slegs diegene deel sal hê wat Christus geken het, en die krag van sy opstanding, en wat aan sy dood gelykvormig geword het. Niemand kan hierdie gedeelte interpreteer sonder om te erken dat daar eers ‘n opstanding van die regverdiges is voordat die opstanding van die goddeloses sal plaasvind nie.

In Lukas 20 is daar ‘n stelling wat ook ‘n duidelike bewys is dat daar wél ‘n spesiale opstanding sal wees. Die Sadduseërs het ‘n probleem gestel met betrekking tot die verhouding tussen mans en vrouens in die hemel, waarop Jesus geantwoord het: "…maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is" (Luk. 20:35-36).

Dit is duidelik dat daar ‘n bepaalde standaard vir hierdie opstanding vereis word, want “kinders van die opstanding” word spesifiek as “kinders van God” gekwalifiseer. U vind ook ’n belofte aan hierdie mense in Lukas 14: "Maar wanneer jy ‘n feesmaal gee, nooi armes… en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges" (Luk. 14:13-14). Daar sou geen noodsaaklikheid voor gewees het om te sê “in die opstanding van die regverdiges” indien daar net een algemene opstanding was nie.

Die volgende is terme wat net op die eerste opstanding betrekking het:

  • Die eerste opstanding (Op. 20:6).
  • Die opstanding van die kinders van God (Luk. 20:36).
  • Die opstanding van dié wat in Christus gesterf het (1 Thess. 4:16).
  • Die opstanding van die regverdiges (Luk. 14:14).
  • ‘n Beter opstanding (Heb. 11:35).
  • Die opstanding tot die lewe (Joh. 5:29).
  • Die opstanding uit die dode in Jesus (Hand. 4:2).

Wanneer daar na die Christene se opstanding uit die dode verwys word, asook wanneer die opstanding van Christus ter sprake is, word die uitdrukking ek nekroon in Grieks gebruik. Dit beteken uit die dode en word slegs ten opsigte van ‘n opstanding gebruik waarin daar ander dode is wat agterbly. Hierdie uitdrukking, wat 49 keer in die Nuwe Testament gebruik word, waarvan 34 keer in verband met die opstanding van die Here Jesus, word nie een keer in verband met die finale opstanding gebruik nie. Na die tweede opstanding word slegs as toon nekroon verwys, wat die opstanding van die dode is. Wanneer die wegraping plaasvind, staan die regverdiges met verheerlikte liggame onder die ander dode op (vanuit die dode) en gaan dan met dié wat nog in die lewe is, Christus tegemoet in die lug (1 Thess. 4:16-17).

Die ander dode is die ongeredde menigte van alle eeue, en hulle sal nie herleef totdat die duisend jaar voleindig is nie (Op. 20:5). Hulle sal dan voor die groot wit troon verskyn om tot die ewige dood in die poel van vuur verdoem te word.

Kenmerke van die vrederyk

Die wêreld met sy natuurlike skepping en al sy inwoners sal ‘n totaal nuwe bedeling betree wanneer die koninkryk van Christus geopenbaar is, want dan sal Hy wat die wêreld gemaak het, saam met sy heiliges oor die aarde regeer. Die koninkryk van die duisternis wat deur die eeue heen net op vernietigingswerk ingestel was, sal sy magsbasisse en invloedsfeer heeltemal verloor. Toestande sal dus radikaal anders as gedurende die kerkbedeling wees. Die volgende is die belangrikste kenmerke van die toekomstige vrederyk op aarde:

  • God sal in die Persoon van Jesus Christus op aarde regeer. ‘n Teokratiese wêreldregering sal dus gevestig word (Luk. 1:31-33; Op. 19:15; Jes. 11:5-16).
  • Die troon van Christus sal in Jerusalem wees (Sag. 8:22; Jes. 24:23). Sy regering sal deur geregtigheid gekenmerk word (Jes. 1:26-27; Jer. 23:5-6), en die nasies sal na Jerusalem optrek om in die weë van die Here onderrig te word (Jes. 2:2-3).
  • Die Here sal die smaad van sy volk Israel vir ewig van die aarde af wegneem (Jes. 25:8-9). Daar sal geen sprake meer van Jodehaat en oorloë teen Israel wees nie (Jes. 60:12,14).
  • Daar sal vrede wees. Nasies sal nie meer leer om oorlog te voer nie (Jes. 2:4), want hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose harte nie (Jer. 3:17).
  • Satan sal gebind wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-4). Hy en sy demone sal dus nie in ‘n posisie wees om rebellie teen God se koninkryk te stig, valse godsdienste te bevorder en die mensdom tot aktiewe dade van sonde aan te hits en te bemagtig nie.
  • Die leiers van die nasies sal spontaan na Jerusalem optrek om deur die Here onderrig te word en in sy weë te wandel (Jes. 2:3; 11:10; Sag. 8:20-22).
  • Omdat sterflike mense nog steeds met ‘n sondige natuur gebore sal word, sal hulle geëvangeliseer en gedissiplineer moet word (Op. 2:26-27; Sag. 14:16-17).
  • Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here en die hele wêreld evangeliseer (Jes. 12:3-6; 40:9). Deur hulle evangelisasie sal hulle die wêreld vol vrugte maak (Jes. 27:6) en hulleself grootliks in die Here verbly (Jes. 28:5).
  • Israel sal deur al die nasies geëer en gedien word omdat hulle in ‘n baie spesiale sin die volk van die Koning sal wees (Sag. 8:23; Jes. 60:14). Israel se bure en huidige vyande soos Egipte en Assirië (lg. sluit Sirië en Irak in) sal Israel probeer oortref in die wyse waarop hulle die Messias in daardie tyd sal eer en dien (Jes. 19:23-25).
  • Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Hab. 2:14). Die name van die afgode en valse godsdienste sal heeltemal uit die wêreld uitgeroei word (Sag. 13:2; Hos. 2:16).
  • Daar sal nie siekte wees nie: “Geen inwoner sal sê: ek is siek nie” (Jes. 33:24). ‘n Stroom water sal uit Jerusalem vloei, met vrugtebome aan weerskante, waarvan die blare tot genesing sal wees (Eseg. 47:12).
  • Mense sal hoë ouderdomme bereik. ‘n Man van 100 jaar oud sal as ‘n kind beskou word (Jes. 65:20-23). Die proses van veroudering sal dus baie stadiger plaasvind, soos voor die vloed.
  • Die natuur, wat as gevolg van die sondeval aan die nietigheid onderworpe is, sal sy volle potensiaal bereik en nie onder die druk van natuurrampe gebuk gaan nie. Om dié rede wag die hele skepping met reikhalsende verwagting op die openbaarmaking van die kinders van God (Rom. 8:19-22; Jes. 41:18-20).
  • Tye van ekonomiese voorspoed sal aanbreek. Wanneer dit planttyd is, sal die vorige oes nog nie eers klaar ingesamel wees nie (Jes. 55:13; Amos 9:13-14; Joël 3:18).
  • Daar sal ‘n ten volle ontwikkelde, ekonomies voorspoedige gemeenskap wees wat in die behoeftes van die Koning se onderdane sal voorsien (Jes. 65:21-23).
  • Harmonie sal in die diereryk heers. Die wolf sal saam met die lam wei en die leeu gras vreet soos ‘n os, omdat die Here ‘n nuwe verbond met die diere van die veld en die visse van die see sal sluit (Jes.11:6-9; 65:25; Hos. 2:17).

Israel se posisie in die vrederyk

Uit Israel se oogpunt is dit om die volgende vier redes baie duidelik dat die vrederyk nog nie vir hierdie volk aangebreek het nie:

Eerstens: Volgens die profete sal die beloofde Messiasryk ongekende seëninge vir Israel meebring nadat dit aangebreek het. Die volk het nie een van hierdie seëninge die afgelope 2000 jaar beleef nie. Tydens hulle internasionale ballingskap was daar geen ander volk wat soveel aanhoudende smarte as die Jode ervaar het nie. Selfs in die 40 jaar voor die verwoesting van Jerusalem in die eerste eeu, was die land Israel ‘n kookpot van onderlinge twiste, haat en opstande teen die Romeinse owerheid.

Tweedens: In die vrederyk sal die Messias benewens sy wêreldwye koningskap ook die Koning van die Jode wees. Die feit is dat die Jode nog nooit vir Jesus as hulle Koning en Messias erken het nie. Hulle het nog nie as volk die geopende oë gehad om vir Hom wat hulle deurboor het, as Messias te erken nie (Sag. 12:10). Indien Jesus reeds die koningskap op die troon van Dawid aanvaar het (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17), dan is Hy as Koning van die Jode ‘n Koning sonder ‘n volk. Om profesieë só te verklaar, kom prakties daarop neer om Bybelse stellings te ontken en in die plek daarvan jou eie teorieë te verkondig.

Derdens: In die vrederyk sal Jerusalem as die hoofstad van die wêreld hoog en verhewe wees. Die nasies sal daarheen toestroom om in die weë van die Here onderrig te word, en die volk Israel sal deur hulle geëer word. Die afgelope byna 2000 jaar is Jerusalem se regmatige inwoners egter deur die nasies verstrooi en die stad misken en vertrap.

Vierdens: In die vrederyk sal Israel hulle doel as die volk van God verwesenlik en die hele wêreld evangeliseer. Tot dusver het hulle as volk nog nie die Messias aanvaar nie en kon dus nog nie sy boodskap van verlossing aan die nasies verkondig nie.

Israel se posisie in die komende Messiasryk word dikwels in die Ou Testament beskryf en spesifiek met die dag van die Here in verband gebring. Aan die begin van hierdie tyd, tydens die verdrukking, sal die Here Israel se vyande verdelg en ook die volk Israel in ‘n tyd van benoudheid bring waaruit net ‘n oorblyfsel gered sal word. Daarna, in die millennium, sal ‘n tyd van seën, oorvloed, blydskap in die Here en vrede op aarde aanbreek. Israel sal dan sy volle potensiaal as volk van God vervul en ‘n nasie wees waardeur die Here die hele aarde sal seën. Paulus het van Israel gesê: “As hulle val die rykdom van die wêreld is… hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:12).

Deur Israel se val, omdat hulle die Messias, Jesus, verwerp en laat kruisig het, is die versoening van God aan die nie-Joodse wêreld gebied. Wat ‘n geweldige seën is dit nie vir ons nie! Hoeveel te meer sal Israel dan nie in die vrederyk ‘n seën vir die wêreld wees wanneer hulle die verlossingswerk van die Messias onder alle nasies sal verkondig nie! Hulle sal dan hulle roeping as volk van God ten volle vervul. Die volgende is voorbeelde van beloftes oor Israel se herstel en heerlikheid in die komende Messiasryk:

Die hele oorblyfsel van Israel sal die koninkryk van God beërf: “En in dié dag sal die Here vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af tot by die spruit van Egipte, en júlle sal ingesamel word, een vir een, o kinders van Israel!” (Jes. 27:12).

“Want die dag is daar dat die oppassers op die berge van Efraim roep: Maak julle klaar en laat ons optrek na Sion, na die Here onse God. Want so sê die Here: Jubel oor Jakob van vreugde, en juig oor die hoof van die nasies; laat dit hoor, sing lof en sê: O Here, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel! … Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit… Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees” (Jer. 31:6-7,31,33).

“En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelye hê soos ‘n man medelye het met sy seun wat hom dien" (Mal. 3:17).

Die Messias sal van die troon van Dawid af regeer: “In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd; sodat hulle in besit kan neem die oorblyfsel van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat dit doen… En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon… en Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God” (Amos 9:11-12,14-15).

“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek die goeie woord in vervulling laat gaan wat Ek gespreek het aangaande die huis van Israel en die huis van Juda. In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid ‘n Spruit van geregtigheid laat uitspruit, en Hy [die Messias] sal reg en geregtigheid doen in die land. En in dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon; en dit sal die naam daarvan wees: Die Here ons Geregtigheid” (Jer. 33:14-16).

Jerusalem én die hele land sal herbou en herstel word: “Daar kom ‘n dag om jou mure te herbou! In dié dag sal die gebied ruim wees” (Miga 7:11).

“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat die stad vir die Here herbou sal word, van die toring Hanáneël af tot by die Hoekpoort… [dit] sal nie weer uitgeruk of verwoes word tot in ewigheid nie” (Jer. 31:38,40).

“Dan sal julle weet dat Ek die Here julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg; dan sal Jerusalem ‘n heiligdom wees" (Joël 3:17).

“Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar ‘n oorvloed van duursame vrede. En Ek sal die lot van Juda en die lot van Israel verander en hulle bou soos tevore. En Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het, en vergewe al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het. En die stad sal vir My wees ‘n vreugdevolle roem, ‘n lof en ‘n sieraad by al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie wat Ek aan hulle doen; en hulle sal bewe en ontroer word oor al die goeie en oor al die vrede wat Ek daaraan bewys” (Jer. 33:6-9).

“o Julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde” (Jes. 62:6-7).

Die hele Israel sal die Here dien: “In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: ‘n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse. Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar!” (Jes. 26:1-2).

“In dié dag sal die Here van die leërskare wees tot ‘n sierlike kroon en ‘n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk” (Jes. 28:5).

“En julle sal in dié dag sê: Dank die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is!... laat dit bekend wees op die hele aarde” (Jes. 12:4-5).

“In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6).

Israel sal deur die nasies geëer word: “So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23).

“En die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel” (Jes. 60:14; vgl. Jes. 49:23).

Al die nasies sal saam met Israel die Here dien: “En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai [verwysende na Jesus, die Messias] wat daar staan as ‘n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees” (Jes. 11:10).

“In dié dag sal die mens kyk na sy Maker, en sy oë sal sien op die Heilige van Israel” (Jes. 17:7).

“Want dan sal Ek aan die volke rein lippe toebring, sodat hulle almal die Naam van die Here sal aanroep en Hom met ‘n eenparige skouer sal dien” (Sef. 3:9).

“So sê die Here van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die Here om genade te smeek en die Here van die leërskare te soek... So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek” (Sag. 8:20-22).

“In dié dag [dit is die dag van die Here in die komende vrederyk] sal daar ‘n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die Here dien. En in dié dag sal Israel die derde wees naas [saam met] Egipte en Assirië, ‘n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:23-25).

Groot ekonomiese voorspoed sal heers: “Dan sal Hy reën gee vir die saad waarmee jy die grond besaai, en broodkoring wat die grond voortbring, en dit sal smaaklik en voedsaam wees; jou vee sal in dié dag wei op ‘n uitgestrekte weiveld… en op elke hoë berg en op elke verhewe heuwel sal strome wees...” (Jes. 30:23,25).

“En op dié dag sal die berge drup van mos en die heuwels vloei van melk en al die spruitjies van Juda stroom van water; en uit die huis van die Here sal daar ‘n fontein uitkom om die dal van Sittim te besproei” (Joël 3:18).

“Kyk die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal... dat die berge van mos sal drup en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees” (Amos 9:13).

Hierdie en baie ander seëninge sal die kenmerk van die Messias se duisendjarige vrederyk wees wanneer Hy op die troon van Dawid regeer. Sy verheerlikte kerk sal saam met Hom regeer en geregtigheid oral op aarde laat geskied. Israel sal ‘n leidende rol in wêreldsake speel en die Here se spesiale getuies onder die nasies wees. Al die nasies sal hulle eer, erken en respekteer.

Dispensasionele onderskeid

Indien die toekomstige dispensasie van die koninkryk (die vrederyk van Christus) nie duidelik van die huidige kerkdispensasie onderskei word nie, kan dit tot groot teologiese verwarring en verkeerde verwagtings lei. Wanneer hierdie twee bedelings saamgegooi word, lei dit na ‘n vorm van koninkryksteologie waarin tekens en wonders nagestreef word, asook mensgemaakte herlewings met die oog op die verwagte oorname van die wêreld. Baie Christenleiers wil nóú soos konings leef en groot magte beoefen.

Laat ons voortgaan om die ware millennium te verwag wat ná die koms van die Koning, Jesus Christus, sal aanbreek. Slegs Hý kan die oorblyfsel van Israel én die nasies red (Sag. 12:10; Matt. 24:30), die duiwel in 'n put laat bind (Op. 20:1-3), die troon van Dawid herstel (Hand. 15:16-17) en toestande van vrede en harmonie op aarde skep. As ons bereid is om nou te ly en ons bediening te midde van groot teëstand te vervul (Joh. 16:33, 1 Thess. 3:3-4), sal ons waardig wees om saam met Christus in sy geopenbaarde koninkryk te regeer (Rom. 8:17).

Diegene wat probeer om vóór die Koning se koms 'n kunsmatige utopia op aarde te skep, is besig om 'n humanistiese droom deur rekonstruksionisme te probeer verwesenlik. Daar is tans toestande op aarde wat ons net eenvoudig nie kan verander voordat die Here Jesus weer kom nie! Ons kan ten beste in hierdie bedeling die lig van ‘n geestelik donker wêreld en die sout van ‘n moreel bedorwe aarde wees, met die wete dat omstandighede nader aan die einde aansienlik sal versleg (1 Tim. 4:1; 2 Tim. 3:1; 2 Thess. 2:3). Dit is waarom ons 'n wonderlike toekomsverwagting in verband met die Here Jesus se wederkoms het. Ons sal nie alleen die komende verdrukking waarop die vervallende wêreld gewis afstuur, ontvlug nie (Luk. 21:36), maar sewe jaar later terugkom om saam met Christus in sy geopenbaarde koninkryk op aarde te regeer (Op. 5:9-10).

 

16. Wat Kan Ons te Wagte Wees?

Die futuristiese strekking van Openbaring is daarop ingestel om aan alle mense – die ware én valse kerk, asook Israel en die hele ongeredde wêreld – die pad vorentoe aan te dui. Die toekoms van die sataniese driemanskap, dit is die duiwel, die Antichris en die valse profeet, word ook duidelik aangetoon. Die feit dat Openbaring ‘n profetiese boodskap vir alle mense het, plaas ‘n verantwoordelikheid op Christene om hierdie boodskap saam met die res van die Bybel aan almal te verkondig. In die lig van dit wat reeds in hierdie studie oor Openbaring gesê is, kan die verskillende groepe mense wat daarin aangespreek word, die volgende te wagte wees:

Gebeure tydens die kerkbedeling

In Openbaring 2 en 3 is daar benewens die bespreking van eietydse sake ‘n aanduiding van chronologiese tydperke waardeur die kerkbedeling gaan, asook die vervolging, dwalings en probleme wat daarmee in verband staan. Die ware Christene word in die lig hiervan teen geestelike verval gewaarsku, op swaar tye voorberei en ook bemoedig om op die regte pad te volhard sodat hulle as oorwinnaars uit die stryd kan tree.

Omdat al sewe die kerktipes dwarsdeur die kerkbedeling voorkom, moet eindtydse Christene op die waarskuwings en verskillende vorms van bemoediging in al sewe die briewe ag slaan. Uit ‘n profetiese oogpunt is ons wél nou in die Laodicea-tydperk, maar elemente van die ander ses gemeentetipes kom ook saam met Laodicea voor. Die primêre boodskap van hierdie briewe is dat alle Christene van alle tye hulle geestelike lewe so gou as moontlik in orde moet kry sodat die Here se doel met individuele gelowiges én met sy kerk op aarde verwesenlik kan word. Die profetiese aanduidings in die sewe briewe is dat die Christelike kerk in die algemeen nie die waarskuwings ter harte sal neem nie, en uiteindelik tot op die betreurenswaardige lae geestelike vlak van Laodicea sal verval. Hulle sal só walglik en verwerplik vir die Here word dat Hy hulle soos lou water uit sy mond sal spuug (Op. 3:15-17).

In die lig hiervan moet evangeliese Christene wat die Here Jesus liefhet en ernstig is om die smal weg te bewandel sonder om regs of links daarvan af te wyk, daarteen waak om deel van die vervalproses in kerke te word. Hulle moet seker maak dat hulle altyd onder die klein groepie getroues is wat bemoedig word om teen al die versoekings en dwalings te oorwin. Aan een só ‘n groepie sê die Here Jesus: “Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is” (Op. 3:4).

Die volgende is die belangrikste waarskuwings waarteen Christene én gemeentes moet waak:

In die brief aan Éfese word ons teen ‘n dooie vorm van kerkisme gewaarsku waarin die liefde vir Christus deur die liefde vir die kerk verdring word – tot só ‘n mate dat die Here Jesus die afvalliges tot ‘n hertoewyding aan Homself oproep: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke” (Op. 2:4-5). ‘n Voortgesette stryd teen sektes word as deel van goeie Christenskap beskryf (Op. 2:6). Aan sy getroue volgelinge wat teen vormgodsdiens en sektariese dwalings oorwin, beloof die Here Jesus geestelike voedsel van die boom van die lewe af – dit is ‘n lewe in Christus, soos die loot wat sy lewenskrag uit die ware wynstok verkry.

In die brief aan Smirna word Christene gewaarsku dat hulle by tye gedurende die kerkbedeling hewig deur Satan en sy handlangers verdruk en vervolg sal word.  Baie van hulle sal in die proses as martelare vir hulle geloof sterf. Hulle word bemoedig om tydens die vurige vervolging getrou te bly, geen kompromie met die onderdrukkers te maak nie en as oorwinnaars te sterf indien hulle met die dood gekonfronteer sou word (Op. 2:10). Aan die martelare word die kroon van die lewe beloof, wat beteken dat die tweede dood (die ewige dood in die hel) geen mag oor hulle sal hê nie. Let daarop dat die verdrukking wat hulle ervaar, van die duiwel af kom en dus nie oordele van God is, soos dit wat in die groot verdrukking oor die sondaars uitgestort sal word nie. God oordeel nie sy eie kinders nie.

In die brief aan Pergamus word Christene teen ‘n bose samelewing gewaarsku wat heeltemal in die mag van die duiwel lê. Sommige van die gemeentelede het met die goddelose, nie-Christelike denkrigtings kompromie gemaak en daardeur die leer van Bileam nagevolg. Een van die persone, Antipas, wat homself heftig hierteen uitgespreek het, is tereggestel (Op. 2:13). Die Here noem Antipas egter sy getroue getuie, en sê daardeur aan ons dat Hy nie vir kompromiemakers in sy koninkryk plek het nie. Die oorwinnaars oor die leringe van duiwels sal met die verborge manna gevoed word, wat die onvervalste melk van die Woord is.

In die brief aan Thiatire waarsku die Here sy kinders teen nóg erger vorms van geestelike misleiding as dié in Pergamus. In hierdie kerk word afgodediens beoefen waardeur mense die dieptes van Satan en sy verborge kragte leer ken. Die kerk kry ‘n magsposisie deurdat baie mense onder haar invloed kom, en dit is ook duidelik dat hierdie kerk tot in die eindtyd sal bestaan en ná die wegraping in die groot verdrukking gewerp sal word (Op. 2:22). Aan sy getroue dissipels wat nie hierdie kerk se dwaalleerstellings aanvaar het nie en deur dié kerk vervolg en verneder is, beloof die Here Jesus ‘n magsposisie in sy toekomstige koninkryk (Op. 2:25-27).

In die brief aan Sardis word die gemeente van geestelike doodsheid beskuldig omdat hulle nie evangelisasiewerk doen deur Jesus Christus aan ‘n sterwende wêreld te verkondig nie (Op. 3:1-2). Aan die klein groepie oorwinnaars in Sardis belowe die Here Jesus dat hulle saam met Hom in die hemel sal wees en dat hulle name nie uit die boek van die lewe uitgewis sal word nie. Hy sal ook hulle name voor sy Vader bely omdat hulle Jesus as hulle Verlosser aan ander mense bely het. Die name van die gemeentelede wat van geestelike doodsheid beskuldig word, sal nie in die hemel bely word nie en uit die aard van die saak ook nie in die boek van die lewe wees nie, al dink hulle ook dat hulle Christene is.

In die brief aan Filadelfia word die evangeliserende gemeente vir hulle toewyding aan die Here Jesus geloof, en veral oor die feit dat hulle sy Woord bewaar en sy Naam nie verloën het soos wat gebruiklik in baie ander gemeentes was nie (Op. 3:8). Hulle kry baie duidelik die versekering dat hulle as gevolg hiervan nie in die uur van beproewing (die verdrukking onder die bewind van die Antichris) sal kom nie, en dus die wegraping sal meemaak. Volgens die oorspronklike Griekse teks staan daar in Openbaring 3:10: “Ek sal jou uit die uur van beproewing bewaar…” (King James-vertaling: “I will keep thee from the hour of tribulation…”). Hierdie getroue getuies word aangemoedig om vas te staan en nie terug te val nie (Op. 3:11), sodat hulle as oorwinnaars die ewige heerlikheid van die Here deelagtig kan word.

In die brief aan Laodicea word daar baie sterk teen die valsheid van ‘n materialistiese, mensgerigte, selfregverdigende vormgodsdiens gewaarsku. Die Here Jesus verwerp sulke kerklidmate omdat Hy glad nie met hulle geestelike bankrotskap kan assosieer nie. Hy roep lidmate uit hierdie dooie kerk tot bekering op (Op. 3:20), sodat hulle in plaas van aardse rykdomme eerder geestelike rykdomme sal najaag. Aan die klein groepie oorwinnaars in hierdie afvallige en dooie gemeente sê die Here dat hulle mede-regeerders saam met Hom in sy koninkryk sal wees.

Uit die briewe aan die sewe gemeentes is dit duidelik wat die mees algemene dwalings en geestelike vervalsings in die kerkbedeling is. Die Here Jesus rig die volgende waarskuwings aan kerke en gemeentes wat hulle hieraan skuldig maak:

  • Die kandelaar van vormgodsdienstige gemeentes sal deur die Here weggeneem word, wat beteken dat Hy sy Gees aan hulle sal onttrek (Op. 2:5)
    • Kerke wat met die wêreld kompromie maak, sal deur die Woord van die Here geoordeel word omdat hulle daaraan ontrou geword het (Op. 2:16).
    • Afvallige kerke wat leerstellings van duiwels aanvaar en verkondig, sal in die groot verdrukking beland as hulle hul nie bekeer nie (Op. 2:22).
    • Die Here Jesus sê Hy onttrek Homself ook heeltemal aan kerke en gemeentes wat deur geestelike louheid weens materialisme en selfregverdiging gekenmerk word (Op. 3:16-17).

Ware Christene moet hulle taak op aarde vervul terwyl hulle aanvegtinge verduur uit ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê, en ook te midde van ‘n hewige stryd teen magsbehepte, valse kerke wat net ‘n gedaante van godsaligheid het. Dit is ‘n bomenslike taak wat nie sonder die genadige instaatstelling en bekragtiging deur die Heilige Gees uitgevoer kan word nie, en ook nie sonder ‘n ingesteldheid van volharding op die pad van die Here tot die einde toe nie. Ten spyte van hulle min krag in hierdie bedeling (Op. 3:8), sal sy getroue dissipels geestelik met manna uit die hemel gevoed en vir die stryd versterk word.

Aan die oorwinnaars word loon in die hemel beloof, asook in die Here se koninkryk wat ná sy wederkoms op aarde geopenbaar sal word. Hulle sal mede-regeerders met Christus wees en die nasies met ‘n ysterstaf regeer (Op. 2:26-27). In die huidige bedeling sal hulle egter as ‘n getroue minderheidsgroep teëgestaan, verwerp en vervolg word. Daar is geen belofte van koninkrykstoestande wat die ware Christene in die kerkbedeling sal beleef nie, en derhalwe geen regverdiging vir ‘n koninkryksteologie van tekens, wonderwerke, wêreldwye herlewings, rykdom, voorspoed, en ‘n Christelike rekonstruksionisme wat op die oorname van die hele wêreld gemik is nie. Daar is ook nie sprake van die binding en uitwerping van Satan uit groot gebiede van die wêreld voordat die Here terugkom nie. Die stryd teen die koninkryk van die duisternis sal hewiger word na die einde toe, en die geestelike dwalings onder die leiding van valse profete ál hoe groter. As gevolg hiervan sal daar in die eindtyd ‘n wydverspreide verval in geestelike standaarde plaasvind.

In ‘n tyd soos hierdie sal dié wat vuil is ál hoe vuiler en die heiliges ál hoe heiliger word (Op. 22:11). Siele sal soos brandhout uit die vuur geruk word terwyl suiwer, Bybel-gefundeerde evangelisasiewerk onder uiters moeilike omstandighede gedoen sal word. Die meeste mense sal die gesonde leer egter nie meer verdra nie, en in die plek daarvan metodes van kitsevangelisasie verkies waarin hulle op ‘n maklike manier sonder ‘n grondige bekering deur valse predikers salig gespreek word (2 Tim. 4:3-4).

Die vervolging van Christene

Die vervolging van evangeliese Christene deur andersdenkende mense wat onder die aanstigting van Satan optree, is ‘n verskynsel wat dwarsdeur die kerkbedeling voorkom. Daar is aanduidings dat vyandigheid teen Christene in die eindtyd, as voorbereiding op die verskyning van die kosmiese messias van alle gelowe (die Antichris) sal verskerp. Hierdie vervolging moet duidelik onderskei word van die komende verdrukking wanneer die Here ‘n afvallige mensdom wat sy Seun verwerp het, sal oordeel. In die tyd wanneer sy oordele uitgestort word, sal die Antichris en sy medewerkers ook groot ellendes oor die wêreld bring.

Daar was nog altyd ‘n kosteberekening om ‘n Christen te word, omdat die Bybel die kerkbedeling as ‘n stryd teen Bose magte beskryf, asook teen mense wat die waarheid teëstaan. Ons is nie nou konings wat heerskappy voer nie, maar soldate vir die kruis. Paulus sê vir Timotheus: “Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus” (2 Tim. 2:3). Alle ernstige dissipels van die Here Jesus kan vervolging te wagte wees: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Tim. 3:12). Eintlik moet ons dit as ‘n seën beskou as ons waardig geag word om vir so ‘n groot en verhewe saak soos die koninkryk van God te kan ly deur verwerp, bespot en verdruk te word. Paulus sê dat dit “ter wille van Christus genadiglik aan ons gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly” (Fil. 1:29).

Soms is die vervolging nie openlik en fisies nie, maar die dissipel wat die Here Jesus van harte wil dien, sal nogtans ervaar dat sy boodskap en standpunte deur baie mense (veral deur die nominale Christene) verwerp word. Die Here het vir Paulus voor een van sy besoeke aan Jerusalem op verwerping van hierdie aard voorberei en vir hom gesê: “Hulle sal jou getuienis aangaande My nie aanneem nie” (Hand. 22:18).

Hoe reageer jy op verwerping en vervolging ter wille van die waarheid? Dit is deel van die stryd en jy moet jouself glad nie daardeur laat afsit nie: “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens... want hulle vaders het net so aan die profete gedoen... Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen” (Luk. 6:22-26).

Is daar ‘n positiewe emosionele reaksie by jou as jy ter wille van Christus vervolg word? Nadat die apostels geslaan en verbied is om in die Naam van Jesus te preek, het hulle “van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly” (Hand. 5:41). Ons geloofslewe moet versterk word sodat ons op groter aanslae voorbereid kan wees. Ons geloof in Jesus Christus is die oorwinning wat die wêreld oorwin het (1 Joh. 5:4-5).

Ons weet dat die uiteindelike oorwinning vir volle beheer oor die aarde en al sy inwoners verseker is. Die loon wat die Here Jesus in dié dag aan sy getroue dissipels sal gee, sal wonderlik wees. As ons nou saam met Hom ly, sal ons eendag saam met Hom verheerlik word (Rom. 8:17). Moet dus nie nou na beloning en erkenning soek in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê nie. Stry die goeie stryd van die geloof en verdedig die unieke evangelie van Christus vreesloos, want niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie – nie eers die ergste verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of die swaard nie (Rom. 8:35). “In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Rom. 8:37).

Omdat die Here Jesus getrou was tot die dood toe, ja, die dood van die kruis, het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is” (Fil. 2:8-9). In die lig van sy voorbeeld moet ons ons kruis met blymoedigheid dra en in sy voetspore volg, sonder om onder die druk van ‘n sondige wêreld te swig, moedeloos te word en die stryd gewonne te gee: “Julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie” (Heb. 12:3). Die waarheid sal sekerlik seëvier omdat die kruisweg tot oorwinning lei!

‘n Toename in Jodehaat

Die duiwel is aktief besig om onder Christene én nie-Christene ‘n gees van Jodehaat aan te blaas. Hy is bewus van die feit dat God vir Israel verkies het om deur hulle sy Woord aan die wêreld te skenk (Rom. 3:1-2), asook die Verlosser (Rom. 9:5). Satan weet van Bybelse profesieë oor die wederkoms van Christus na Jerusalem, die geestelike herstel van ‘n oorblyfsel in Israel, en van die leidende rol wat die geredde Israel in die millennium sal speel. Om hierdie rede haat hy Israel en probeer om hulle by die verskillende godsdienste én by al die nasies van die wêreld in onguns te bring en verwerplik te maak.

Wat Israel self betref, gebruik die duiwel agnostisisme en die voortsetting van ortodokse Judaïsme in Nuwe Testamentiese tye, om daardeur vir Israel in die dooie letter van die ou verbond in te sluit en sodoende van hulle enigste Verlosser af weg te hou. Die gevolg hiervan is dat baie van die ortodokse Jode selfs meer veroordelend teenoor Messiaanse Jode is wat die Here Jesus as Messias dien, as wat hulle teen Jode is wat ander gelowe aanhang.

In sommige van die nie-Joodse gelowe, bv. Islam, vestig Satan ‘n geweldige haat en onverdraagsaamheid teen die Jode, met die gevolg dat radikale Moslems ‘n heilige oorlog (jihad) teen Israel en sy bondgenote voer. Baie van die Christelike kerke bevorder dieselfde gees van dwaling deur die vervangingsteologie, in terme waarvan die kerk homself as die Israel van die Nuwe Testament sien. Hierdeur word Israel sy Bybelse posisie as volk van God ontneem, en word die herstel van Israel nie aktief deur sulke gelowiges ondersteun nie. Daar is ook onbybelse identiteitsbewegings soos die Israelvisie (British Israelism) in terme waarvan mense hulleself as lede van die sogenaamde tien verlore stamme van Israel sien, en in die proses aktiewe Jodehaters word wat die moderne Jode se Bybelse identiteit en reg op hulle eie land heftig ontken.

Die gees van Jodehaat gaan in die eindtyd nog tot groot uiterstes in die wêreld gepropageer word, en al die nasies sal daardeur aangehits word om teen Israel en sy komende Messias oorlog te verklaar. Dit sal na ‘n internasionale troepe-sametrekking en die slag van Armageddon in Israel lei. Almal wat hulleself vir die verwoestende werking van die gees van Jodehaat oopstel, hoe subtiel ook al, werk regstreeks in die hand van die Antichris en haal vir hulleself die toorn van God op die hals (Gen. 12:3).

Al is Israel as volk nog geestelik verblind, is ons net erkentlikheid en dank aan hulle verskuldig omdat die Woord van God én die Verlosser van die wêreld van hulle af na ons toe gekom het. As gevolg hiervan moet ons instrumenteel wees om hulle na die Here toe terug te lei (Rom. 11:11-12). Die kerkbedeling is haas verby, dan sal die hele oorblyfsel van Israel gered word en ‘n seën vir die hele wêreld wees (Rom. 11:25-26; Jes. 27:6).

Koms van die Bruidegom

Daar is nie iets waarna ‘n weergebore Christen meer moet uitsien as na die koms van die hemelse Bruidegom om ons te kom haal nie. Hy het belowe om vir ons plek in die hemel te gaan berei, en as Hy klaar is, kom Hy ons haal sodat ons ook kan wees waar Hy is. Daar is onuitspreeklike heerlikheid wat op ons wag. Niks wat ons ooit op aarde gesien of in ons harte bedink het, kan hiermee vergelyk word nie: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9).

Die wonderlikste van alles sal wees om die Here Jesus in al sy heerlikheid te aanskou “wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10). Die vooruitsig op hierdie ontmoeting moet ons tot groter heiligheid aanspoor, want “elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3). “Ons het [hierdie hoop] as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel” (Heb. 6:19). Lewe die verwagting van die Here Jesus se skielike verskyning in jou hart? Paulus was ingestel op die dag wanneer hy voor Christus sal staan: “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:8).

Terwyl ons die wedloop hier op aarde loop, moet ons oë, geestelik gesproke, op die Here Jesus gevestig wees wat die Leidsman en Voleinder van ons geloof is (Heb. 12:1-2). Mense wat nie op die verskyning van Christus ingestel is nie, het ‘n ander toekomsverwagting. Sommige verwag verkeerdelik die Antichris voordat Jesus Christus sy gemeente in die geheim kom haal, en hou hulleself met die mees vergesogte spekulasie oor die identiteit van hierdie toekomstige misleier besig. Hulle maak ook allerlei planne om tydens sy bewind op aarde te kan oorleef. Hierdie gedagtes vertroebel die verwagting op Christus se koms vir sy heiliges en skuif dit verder terug deur dit aan die vooraf verskyning van die Antichris onderhewig te maak. As gevolg hiervan fokus baie gelowiges nie op Christus nie, maar op die Antichris.

Afspraak voor die regterstoel

Weergebore Christene wat die wegraping verwag, moet ook altyd in gedagte hou dat ons direk ná die wegraping voor die regterstoel van Christus gestel sal word om rekenskap van ons lewens ná bekering te gee (2 Kor. 5:10). Almal van ons het die opdrag om Christus se getuies te wees en vir Hom te werk. Het jy uitvoering aan hierdie opdrag gegee en dien jy die Here van harte, of sal jy dalk met leë hande voor Hom verskyn, gered asof deur vuur heen? (1 Kor. 3:15).

Ons moet voortdurend op hierdie afspraak ingestel wees, asook op die feit dat ons in ons verbygaande, aardse lewe net beperkte tyd het om die Here te dien en op dié manier dinge te doen wat ewigheidswaarde het. “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van die Vader doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:17). Ons moet as Christene volgens die wil van die Here leef as ons Hom wil behaag. “Want dit is die wil van God, julle heiligmaking” (1 Thess. 4:3). Om werklik heilig en diensbaar aan die Here te wees, moet ons die begeerlikhede en rykdomme van die wêreld verloën, na die wil van God vir ons lewe soek en daadwerklik uitvoering daaraan gee:

“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:1-2). As jy God se welgevallige en volmaakte wil doen, sal jy nie met leë hande voor Christus se regterstoel staan nie.

Verskyning van die Antichris as valse vredevors

Nou moet ons kyk na dit wat die verskillende groepe mense wat nie vir die wegraping gereed is nie, te wagte kan wees. Die vormgodsdienstiges, die ongeredde Jode én die hele ongeredde wêreld gaan onverwags deur die spoorlose verdwyning van miljoene Christene oorval word. ‘n Minderheid van hulle sal op grond van Bybelse feite weet wat gebeur het, en ook bedag daarop wees dat daar spoedig ‘n valse wêreldleier, die Antichris, op die toneel sal verskyn. In hierdie tyd van totale geestelike duisternis sal valse teorieë oor die verdwyning van groot getalle mense die wêreld ingestuur en deur die naïewe, oningeligte massas geglo word.

Die Antichris sal tydens ‘n oorlog wat daardie tyd in die Midde-Ooste sal uitbreek, tot Israel se redding kom en ook deur die hele wêreld geloof word omdat hy ‘n moontlike derde wêreldoorlog afgeweer het. Die Jode sal hom as Messias aanvaar, en so ook die hele res van die wêreld. Hulle sal ‘n sewe jaar lange verbond met hom sluit. Onder beïnvloeding van ‘n ander wêreldleier, die valse profeet, sal alle gelowe op aarde die Antichris as hulle gemeenskaplike wêreldmessias aanvaar. Godsdienseenheid sal die grondslag van die nuwe wêreldorde wees, waarin politieke en ekonomiese eenheid ook binne die raamwerk van ‘n wêreldregering bevorder sal word. Die slagspreuk sal wees: “Alles is een.”

Kort ná die Antichris se openbaring as wêreldleier en wêreldmessias sal aansienlike groepe ingeligte mense hom verwerp en hulle tot die ware Messias, Jesus Christus, bekeer. Uit hierdie herlewing sal daar 144 000 geredde Jode as evangeliste in die diens van die Here afgesonder word. Die valse, vormgodsdienstige Christelike kerke, saam met al die valse nie-Christelike godsdienste, sal die Antichris as wêreldmessias aanhang en as gevolg daarvan die volgelinge van die Here Jesus verwerp, teen hulle diskrimineer en die lewe vir hulle baie moeilik maak. Die 144 000 geredde Jode sal ‘n opdraande stryd in hulle eie volk voer omdat die groot meerderheid die Antichris sal erken (Joh. 5:43), van harte sal navolg en ook die reg by hom sal verkry om die tempel in Jerusalem te herbou. Hulle sal werklik dink dat die Messiasryk aangebreek het en dat die ortodokse Joodse geloof in sy volle glorie herleef het, met offerdiens en al, maar sonder die ware Messias.

Die Antichris word wêrelddiktator en voer ‘n skrikbewind

Alhoewel Israel, die ongeredde nasies en die alliansie van valse godsdienste dit nie sal verwag nie, sal hulle utopia van wêreldeenheid net 3½ jaar lank hou – dan sal dit skielik en dramaties in duie stort en deur die ergste skrikbewind van alle tye gevolg word: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Die volgende belangrike dinge gaan in die middel van die sewe jaar lange verdrukking met die sataniese driemanskap gebeur:

Moord op die Antichris en sy opstanding uit die dood. In die middel van die verdrukking van sewe jaar sal die Antichris deur een van sy teëstanders vermoor word, maar deur die mag van Satan wonderbaarlik uit die dood opstaan.(Op. 13:3). Hy sal ten nouste deur die valse profeet bygestaan word, wat verbysterende tekens en wonderwerke sal doen. Dit sal ‘n groot vertoon van bonatuurlike kragte wees: “Hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid waarvan die dodelike wond genees is. Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Op. 13:12-13).

Van vredevors tot tiran. Wanneer die Antichris weer lewendig word, sal die gees van Satan hom totaal bemeester en hy sal deur intense weerwraak teen al sy opponente aangevuur word. Dit sal meebring dat sy 3½ jaar lange nuwe wêreldorde van vrede en eenheid onmiddellik beëindig en deur ‘n militêre diktatuur vervang sal word. Sy ongelooflike prestasies en militêre welslae sal veroorsaak dat die hele misleide wêreld hom in verwondering sal navolg en selfs ook sal aanbid: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:3-4).

Oorlog in die hemel. In dieselfde tyd sal daar ‘n oorlog in die hemel uitbreek wat tot die neerwerping van Satan en sy engele sal lei, sodat hy die mense nie meer voor die troon van God sal kan aankla nie (Op. 12:7-10). Van hierdie oomblik af sal die duiwel sy aandag onverdeeld op die aarde en sy reeds misleide inwoners toespits: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede omdat hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:12). Die neerlaag en verdere vernedering van Satan sal groot woede in hom ontketen, en hy sal hierna volle uiting aan sy vernietigingsdrang teen die mensdom gee – veral teen Israel en die Christene van daardie tyd.

Selfvergoddeliking van die Antichris en die gevolge daarvan. Die nuwe godsdienstige verering sal die Antichris baie aanstaan en hy sal homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Dit sal meebring dat die alliansie van wêreldgodsdienste (die moeder van die hoere – Op. 17:5) oorbodig sal raak omdat die Antichris nie meer hulle gemeenskaplike messias sal wees nie, maar die god van hierdie wêreld wat homself bokant hulle almal sal verhef. Dit sal die einde van al die valse godsdienste beteken, asook die vernietiging van hulle aanbiddingsplekke (Op. 17:16).

Satanisme en die verpligte aanbidding van die Antichris. In die laaste 3½ jaar van die verdrukking sal net die Antichris en Lucifer aanbid mag word, wat beteken dat satanisme die enigste erkende wêreldgodsdiens sal wees (Op. 13:3-4,8). Diegene wat sou weier om hieraan mee te doen, sal summier tereggestel word (Op. 13:15). Die voorafgaande multigodsdienstige gebruike sal net ‘n kondisionerings- en oorgangsfase na die verpligte en openlike aanbidding van Lucifer en die Antichris wees. Alle afgodsdienaars is reeds met die duiwel besig, al besef hulle dit nie (1 Kor. 10:19-20).

Totale beheer deur ‘n kontantlose ekonomie. Die Antichris se totale beheer oor die mensdom sal deur middel van ‘n nommerstelsel en ‘n kontantlose ekonomie afgedwing word (Op. 13:16-18). Elkeen sal ‘n nommer onder sy vel kry waarsonder hy nie sal kan koop of verkoop nie. Hierdeur sal alle mense se bewegings gemonitor word en ook seker gemaak word dat almal van hulle ‘n eed van getrouheid aan die Antichris aflê waardeur hy as wêreldleier én God erken word. Die aanbidding van die dier sal dus saam met die nommerstelsel afgedwing word (Op. 14:11; 19:20). Dit sal onmoontlik wees om by sy ekonomie in te skakel sonder om hom te aanbid.

Die wederkoms van Christus en die vrederyk

Ná sy geheime koms soos ‘n dief in die nag om sy bruidsgemeente voor die aanvang van die verdrukking weg te voer, sal Jesus Christus aan die einde van die verdrukking ten aanskoue van alle mense op aarde kom en sy voete op die Olyfberg neersit. Dit sal die onmiddellike einde van die Antichris en sy skrikbewind beteken en die duiwel sal vir ‘n duisend jaar lank in ‘n put gebind word sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 19:19-20; 20:1-3).

Hierna sal die duisendjarige vrederyk op aarde gevestig word waarin die hele Israel gered en in hulle land herstel sal wees, en die heiliges saam met Christus oor die aarde sal regeer. Die kennis van die Here sal die aarde vul soos die waters die seebodem oordek, geregtigheid sal oral geskied, vrede en oorvloed sal heers en almal sal die Here van harte dien.

Die loslating van Satan, die eindoordeel en die nuwe skepping

Aan die einde van die vrederyk sal Satan vir ‘n kort tydjie losgelaat word om sy laaste groot rebellie op aarde te stig (Op. 20:7-10). Hierdeur sal dit aan die lig kom wie van die mense op aarde nie weergebore is nie, want hulle sal sonder enige weerstand in die duiwel se mag val. Nadat die Here hierdie opstandelinge met vuur uit die hemel verdelg het, sal die tweede opstanding plaasvind – dit is al die goddeloses van alle tye. Hulle sal dan voor die groot wit troon tot die ewige poel van vuur verdoem word. Hierna sal ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde geskape word waarin geregtigheid sal woon. Geen sonde sal ooit daar inkom nie (Op. 21:27).

Is jou saak met die Here reg?

In die lig van die dramatiese dinge wat in die afsienbare toekoms gaan gebeur, behoort dit vir almal duidelik te wees dat die smal weg waarop die regverdiges wandel en die breë weg waarop al die verlore sondaars hulle bevind, onwrikbaar besig is om op hulle finale bestemmings af te stuur – die smal weg in die hemel en die breë weg in die poel van vuur. Aan die einde van die reis sal die geleentheid om van die breë weg af na die smal weg oor te kom, vir altyd verby wees. Op die oomblik leef ons nog in genadetyd waarin sondaars wat die Here Jesus as hulle Verlosser aanneem, van hulle sondes gereinig en nuwe mense gemaak kan word.

Redding

Het jy al van die duisternis van Satan se koninkryk af oorgekom na die lig van die Here se koninkryk? Christus het deur sy kruisdood voorsiening vir die redding van alle mense gemaak, want “so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder” (Luk. 24:46-47). Daar is ongelukkig mense wat dink dat bekering nie nodig is nie, en dat ons net in die Here Jesus moet glo om gered te word. Geloof in Christus vereis noodwendig bekering, want ‘n persoon kan nie sê dat hy in Jesus Christus glo terwyl hy steeds die ou weë bewandel en nog nie sy sondes bely en laat staan het nie.

Paulus bevestig ook die noodsaaklikheid van bekering. In Handelinge 17:30 sê hy: “God… verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.” Dit het ‘n universele toepassing op alle mense oral op aarde ná die koms van Jesus. Dit is in die lig hiervan dat Paulus die goddelike mandaat vir sy hele bediening beskryf. Die Here Jesus het aan hom gesê: “Ek stuur jou na die heidene om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:17-18).

Dit is presies wat baie van die heidene gedoen het, oral waar Paulus die evangelie verkondig het. Teenoor die Thessalonicense getuig hy: “…hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien” (1 Thess. 1:9). In sy brief aan die Romeine spreek hy alle sondaars aan wat hulleself teen die evangelie van Jesus Christus verhard: “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God  jou tot bekering wil lei nie?” (Rom. 2:4). Vir die Hebreërs sê hy dat daar in ‘n verlore sondaar se lewe eers “die fondament van die bekering uit dooie werke en van geloof in God” gelê moet word, waarna heiligmaking en geestelike groei volg (Heb. 6:1).

Vir die Korinthiërs sê hy dat droefheid oor sonde na ‘n ware bekering tot redding lei (2 Kor. 7:10). Die volgorde van gebeurtenisse op die heilsweg in hierdie vers is duidelik: (1) berou oor jou sondige toestand, (2) ‘n bekering waardeur jy op jou pad van sonde omdraai deur al die sondes waarvan die Heilige Gees jou oortuig, te bely en die vergifnis wat Christus aan jou bied, in die geloof te aanvaar; en (3) redding as ‘n daad van die Here waardeur Hy jou sondes vergewe, jou siel wederbaar en aan jou die ewige lewe skenk. Bekering is dus ‘n wesenlike deel van die Bybelse verlossingsleer. Wanneer Paulus vir die tronkbewaarder in Filippi sê: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word” (Hand. 16:31), dan is bekering duidelik hierby ingesluit. Dit is onmoontlik om ‘n saligmakende geloof in Christus te hê sonder om op jou pad van sonde om te draai en Jesus Christus as jou Verlosser aan te neem, te volg en te dien. ‘n Geloof sonder daadwerklike optrede wat in ooreenstemming met jou geloof is, is dood (Jak. 2:26).

Heiligmaking

Ná bekering moet alle Christene ook heiligmaking in hulle lewens nastreef, want “soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Soos die vroeë dissipels moet ons ná bekering ‘n verdere selfondersoek doen en ‘n volle oorgawe maak sodat ons met die Heilige Gees vervul kan word (Luk. 24:49: Hand. 1:4-5,8). Paulus het hierdie opdrag aan die gemeente in Éfese herhaal: “Word met die Gees vervul” (Ef. 5:18). Vir die Thessalonicense het hy gesê: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Thess. 5:23). Waarom moet ons, veral met die oog op die wederkoms, volkome heiligmaking deelagtig word? Jesus Christus wil die gemeente “voor Hom stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks, maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:27).

Daar is egter ‘n groot struikelblok in enige Christen se lewe wat oorwin moet word voordat hy of sy met die Heilige Gees vervul kan word, en dit is die vlees wat die ou, sonde-geneigde natuur van die mens is. By my wedergeboorte (redding) kry ek wél ‘n nuwe natuur in die plek van die ou natuur wat my voortdurend laat sondig het. Selfs al is daar nou ‘n nuwe geestelike natuur in my lewe gevestig, het ek nog steeds ‘n menslike liggaam met al sy sintuie (dit word ook die ‘vlees’ genoem – Gal. 2:20). Ek moet daarop bedag wees dat my liggaam deur die mag van die gewoonte daarop ingestel is om in terme van die begeerlikhede van die ou natuur (die vlees – Gal. 5:17) te leef. My liggaam bied dus ‘n skuilplek en potensiële assosiëring met sy ou natuur, al is die doodstraf in beginsel by my wedergeboorte daaroor uitgespreek.

Die groot uitdaging waarvoor elke Christen tydens heiligmaking te staan kom, is om sy ou natuur heeltemal af te sterf en ooreenkomstig sy nuwe natuur te leef. Hiervoor is daar twee dinge nodig: (1) ‘n Bewustelike aflegging van die ou natuur wat homself opnuut wil laat geld. Dit word deur selfverloëning en ‘n onvoorwaardelike identifisering met die kruis van Christus gedoen, en (2) Vervulling met die Heilige Gees, wat aan my krag tot oorwinning oor sonde, die wêreld en die vlees sal gee en die nuwe natuur van Christus in my lewe sal uitwerk. Stap 1 is my verantwoordelikheid, en stap 2 is dit wat die Here in reaksie op ‘n volle oorgawe vir my sal doen.

Voldoen jy aan die voorwaarde vir heiligmaking? Die Here Jesus sê dat ons onsself moet verloën en ons kruis elke dag opneem en Hom volg (Luk. 9:23). Dit is die kruis van Christus waardeur ons vir die wêreld gekruisig is en die wêreld vir ons (Gal. 6:14). Op hierdie manier lê ons die oue mens (die vlees) af wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en beklee ons met die nuwe mens wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:22-24).

Die vlees moet dood, en solank as wat ek in ‘n verganklike liggaam is, moet ek deur ‘n lewe van toewyding sorg dat die ou natuur dood bly en nie weer herleef nie. Ek moet elke dag meer en meer aan die dood van die Here Jesus gelykvormig word as ek werklik in die krag van sy opstanding wil lewe (Fil. 3:10). Dit verg ‘n bewustelike ingesteldheid dat ek vir die sonde gesterf het en lewend vir God is deur Christus Jesus (Rom. 6:2,11-13).

As ek nie in hierdie ingesteldheid leef en wandel nie, dan skep ek weer vir die vlees ruimte om van die kruis af te kom en te herleef. Paulus sê vir die Galásiërs: “Dié wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie” (Gal. 5:24-26). Hieruit is dit duidelik dat dit van ‘n Christen verwag word om nie net in beginsel op grond van sy bekering die ou lewe (die vlees) as gekruisig te beskou nie, maar om aktief deur die Gees te wandel sodat die ydelheid van die vlees nie weer die oorhand kry om hom te laat struikel nie.

Daar is inderdaad ‘n moontlikheid dat die vlees weer kan herleef as ek aan die versoekings daarvan toegee, wat sal beteken dat ek met die Gees begin en met die vlees eindig (Gal. 3:3). Dan is ek ‘n teruggevalle Christen wat weer ‘n nuwe oorgawe aan die Here moet maak sodat die vlees by hernuwing onttroon kan word. Indien ‘n jong Christen óf ‘n teruggevalle Christen nalaat om die vlees oor te gee om gekruisig te word en ook gekruisig te bly, sal dié persoon nêrens in sy geestelike lewe kom nie: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). As die vlees egter gekruisig is en die Gees het volle beheer oor jou lewe om die Here Jesus in jou gestalte te laat aanneem, is jy op die oorwinningspad: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).

Die tweede stap in heiligmaking volg op die kruisiging van die vlees, en behels die vervulling met die Heilige Gees. Hierdeur kry ons krag om oorwinnend te leef en die Here vreesloos te dien: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8). Toe Paulus drie dae ná sy bekering met die Heilige Gees vervul is, het hy “dadelik Christus... verkondig, dat Hy die Seun van God is” (Hand. 9:20). Die krag van die Heilige Gees stel ons ook in staat om oor al die versoekings en aanslae van die Bose te kan triomfeer: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11).

‘n Lewe van oorwinning en godsvrug verseker dat ek myself nie onder die dwase maagde sal bevind wanneer die hemelse Bruidegom kom nie. Ek sal met die olie van die Heilige Gees in my lewe vervul wees, daarom sal die lig van my getuienis, asook die verwagting op die Bruidegom se skielike koms, nie in die middernaguur van hierdie bedeling uitgedoof raak nie. Ek sal vrymoedigheid hê wanneer die Bruidegom kom en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie (1 Joh. 2:28).

Gereedheid

Die volgende belangrike gebeurtenis op die profetiese kalender is die skielike en onverwagse koms van die hemelse Bruidegom om sy bruidsgemeente te kom haal. Is jy ‘n lid van dié geseënde groep en is jy ook deur heiligmaking volkome vir hierdie ontmoeting gereed? Die Here wil deur sy Gees ons harte versterk om onberispelik te wees in heiligheid by die wederkoms van die Here Jesus Christus (1 Thess. 3:13; 5:23). Dit beteken dat ons moet waak en bid (Luk. 21:36), en onsself van elke besoedeling van die vlees en die gees reinig (2 Kor. 7:1).

Ons moet nie na uiterlike omstandighede kyk om ons lewens te evalueer nie, maar na die innerlike toestand van ons harte, want die redes vir ‘n lae geestelike standaard is daar te vinde. Ons eie vleeslikheid verblind ons geestelik en maak ons wêreldgesind. As ons ‘n eerlike selfondersoek doen (Ps. 139:23-24; 2 Kor. 13:5), sal ons tot verootmoediging en ‘n volle oorgawe kom. Waak en bid is dus die antwoord. Die dissipels wat reeds met die Heilige Gees vervul was, het in krisistye besef dat hulle ‘n nuwe vervulling met die Gees nodig gehad het (Hand. 4:29-31; 13:52). Deur ‘n vars salwing met krag uit die hoogte het die Here hulle bemoedig en vir die stryd versterk. Wanneer ons naby aan die Here leef, sal ons sy koms verwag en weet dat ons die oordele van die verdrukking sal vryspring om voor die Seun van die mens te staan. Dit sal ons meer vasberade maak om te volhard tot die einde toe.

Die getuienis van Jesus

In die lig van die uitspraak: “die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10), sluit ons hierdie boek af met ‘n belydenis oor wie Jesus Christus werklik is. Mense wat nie hierdie waarhede bely nie, loop die gevaar om ‘n valse Jesus na te volg (2 Kor. 11:3-4) en die oordele van die ware Jesus oor hulleself te bring. Dit is belangrik dat elkeen van ons in hierdie tyd van groot afvalligheid die Here Jesus opnuut in sy uniekheid, godheid en heerlikheid sal ken en voor mense bely:

  • Ek glo dat Jesus Christus as mens deur die Heilige Gees in die maagd Maria verwek is (Matt. 1:20) en dat Hy daarom die Seun van God én die Seun van die mens is. Die engel Gabriël het vir Maria gesê dat die Kind wat gebore sou word, groot sou wees en die Seun van die Allerhoogste genoem sou word (Luk. 1:32). Tydens sy geboorte uit die geslag van Dawid het Hy net tydelik sy hemelse heerlikheid afgelê (Fil. 2:7), maar nie van sy essensiële godheid afstand gedoen nie (Kol. 2:9). Met sy hemelvaart is Hy uitermate verhoog en het ‘n Naam gekry wat bo elke naam is (Fil. 2:9-11). Tydens sy wederkoms sal Hy in mag en majesteit as Koning van die konings en Here van die here geopenbaar en erken word (Op. 19:16).
  • Ek glo dat Jesus Here en God is. Elke tong sal bely dat Hy die Here is (Fil. 2:11). Johannes sê: “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Paulus sê: “Hy is die grote God en ons Verlosser (Tit. 2:13), en Thomas het in verwondering uitgeroep: “My Here en my God” (Joh. 20:28). Hy is waarlik Emmánuel – God met ons.
  • Ek glo dat die Here Jesus ‘n ewige selfbestaan as God het. Eers toe Hy as mens gebore is, het Hy Homself ontledig en die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem (Fil. 2:7-8). As God bestaan Hy van alle ewigheid af, daarom kon Hy sê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Hy is die ewige EK IS (Ex. 3:14), wat ook vir die Jode gesê het: “As julle nie glo dat dit Ek Is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24).
  • Ek glo dat Jesus Christus een met die Vader en die Heilige Gees is. Hy het self gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Johannes het gesê: “Daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Ek glo dat Jesus die Woord is wat beide God én mens is. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God... En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon” (Joh. 1:1,14).
  • Ek glo dat die Here Jesus, saam met die Vader en die Heilige Gees, die Skepper van die wêreld is (Heb. 1:2): “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Paulus sê: “Hy is die Beeld van die onsienlike God... want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op aarde is... Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:15-17).
  • Ek glo dat die Here Jesus ook die herskepper is omdat Hy verlore sondaars wat Hom as Verlosser aanneem, geestelik lewend maak deur hulle te wederbaar. Ons is lewend vir God deur Christus Jesus, onse Here (Rom. 6:11). By sy koms vir die gemeente sal Hy ook aan alle gelowiges onverganklike opstandingsliggame gee (1 Kor. 15:22; Fil. 3:20-21). Ná die eindoordeel sal Hy ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep, daarom sê Hy: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut” (Op. 21:5).
  • Ek glo dat Jesus Christus se offer aan die kruis ‘n losprys vir die sondes van die hele mensdom was, m.a.w. alle stamme, tale, volke en nasies op aarde, en dat dit die enigste moontlikheid tot versoening met God bied (Joh. 1:29; Ef. 1:7). Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie (Hand. 4:12). Ek glo ook dat Jesus Christus ná sy kruisdood uit die dode opgestaan en na die hemel opgevaar het om vir ons in te tree en vir ons plek in sy Vaderhuis te gaan berei (Joh. 14:2-3; Heb. 7:25).
  • Ek glo dat die Here Jesus weer kom om ons te kom haal en die ewige heerlikheid van sy koninkryk deelagtig te maak. Dan sal ons by die bruilofsmaal van die Lam saam met Hom Nagmaal hou om opnuut sy kruisdood in herinnering te roep en lof en eer aan Hom te bring omdat Hy ons siele uit genade gered het. As ons nóú saam met Christus die kruisweg bewandel deur onsself te verloën, ons kruis op te neem en Hom in ‘n vyandige wêreld te volg, sal ons eendag in sy ryk saam met Hom regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Dan sal die stryd verby wees en sal Christus se getroue getuies in sy triomfantelike openbaring deel.

Indien ons sou nalaat om die Here Jesus só te ken en te bely, loop ons die gevaar om van Hom net een van baie messiasse van menslike oorsprong te maak, sy godheid te verloën, die betekenis van sy kruisdood af te maak, en dan verder mislei te word om ‘n valse christus in sy plek te aanvaar (Joh. 5:43). In die ontluikende nuwe wêreldorde waarin alle gelowe gelykgestel word, word die godheid en unieke posisie van die Here Jesus ontken. Hy word met Boeddha, Krishna en ander nie-Christelike messiasse gelykgestel, en dit baan die weg vir die Antichris om ook in die naam van Christus te kom en homself as die christus van alle gelowe voor te doen.

Ons sal die tydgees van kompromie, wat ook sterk in Suid-Afrika aan die werk is, moet teëstaan as ons aan die ware Christus getrou wil bly. Hy het belowe dat Hy diegene wat die opmars van die Antichris teëstaan, sal wegneem van die wêreld af, “en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:8-12).

Baie mense het al die krag van die dwaling ontvang om Satan se leuens te glo, omdat hulle die kennis van die waarheid verwerp het. Daardeur het hulle aan die god van hierdie wêreld, Satan, die geleentheid gegee om hulle sinne te verblind, “sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:4). Wanneer Jesus Christus die ware kerk weggeneem het, sal die ongelowige wêreld in verwondering agter die universele messias van alle gelowe aangaan en ook bereid wees om Hom as God te aanbid (2 Thess. 2:4; Op. 13:3-4). Dan sal Satan se multigodsdienstige nuwe wêreldorde ten volle geopenbaar wees.

Terwyl die gees van die dwaling ná die wegraping sonder weerstand op aarde werksaam sal wees, sal die ware gelowiges in die hemel die heerlikheid van die Here aanskou en sy lof besing, want “Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10). Maranata!

 

Watchman Nee 88