Print

Heiligmaking

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Die leer oor heiligmaking as 'n tweede genadewerk ná bekering help alle Christene om tot geestelike volwassenheid op te groei.


Inhoud

Voorwoord

1.  Die Behoefte aan Heiligmaking

2.  Die Stryd Teen Vleeslikheid

3.  Die Eise van Dissipelskap

4.  Oorwinning Oor die Vlees: Die Stap van Heiligmaking

5.  Oorwinning Oor Swakhede: Die Proses van Heiligmaking

6.  Vervulling met die Heilige Gees

7.  Volkome Heiligmaking

8.  Die Wil van God

9.  Gawes en Vrug van die Gees

10. Bedieninge van die Heilige Gees

11. Die pelgrimsreis van God se Volk

12. Heiligmaking en die Wederkoms


Voorwoord

Die doel waarvoor God die mens geskape het, was om aan sy beeld gelykvormig te wees. Die Drie-enige God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Gen. 1:26). Dit is die woorde waarmee die Bybelse geskiedenis van die mens begin het. Ten spyte van die sondeval bly dit nog steeds die ewige doel en opdrag van die mens om aan die beeld van sy Skepper gelykvormig te word. Die sentrale openbaring van God aan Israel was: “Wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44). Dieselfde opdrag geld ook vir Christene van alle tye: “Soos Hy wat julle groep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 15-16).

Ons word nie geroep om onsself te verhef en aan God se natuurlike attribute soos almagtigheid en alwetendheid gelykvormig te word nie, maar aan sy morele attribute soos heiligheid, liefde en barmhartigheid. Ons moet God se karakter in ‘n verdorwe en sondige wêreld openbaar sodat die verlore mensdom kan sien dat sy Gees in ons woon.

By wedergeboorte kry ons benewens regverdigmaking en sondevergifnis ook ‘n nuwe lewe met al die eienskappe van die Here Jesus se goddelike natuur. As ons daarvolgens leef, sal die mense Christus in ons kan sien. Die groot uitdaging waarvoor ons in ons geestelike lewe te staan kom, is die bereidwilligheid om die ou lewe van vleeslikheid en sonde heeltemal af te lê en ons toenemend met die nuwe lewe van die Here Jesus te beklee. Paulus sê vir die Efésiërs:

“...dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).

Die meeste lede van die vroeë Christelike kerk het hulself nie heelhartig tot heiligmaking verbind nie, en in die algemeen ‘n lae geestelike standaard gehandhaaf. Paulus het hulle telkens daaraan herinner dat die Here Jesus duidelik gestalte in hulle lewens moes aanneem, en dit het ‘n verpligting op hulle geplaas om heilig te leef. Baie van hulle het dit nie ten volle besef nie, en hulleself deur sonde en vleeslikheid besoedel. Aan die Korinthiërs het hy gesê: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? ... die tempel van God is heilig, en dit is julle” (1 Kor. 3:16-17). Aan die Romeine het hy gesê dat hulle nie aan die wêreld gelykvormig moes word nie, maar hulle liggame as ‘n heilige offer in God se diens stel. Hulle moes vasstel wat God se wil is en streng daarvolgens leef (Rom. 12:1-2).

Die laaste dae waarin ons nou is, word deur grootskaalse geestelike verval en wêreldgelykvormigheid gekenmerk. Die eindtydse kerk van Laodicea word deur die Here as materialisties, lou, selfgesentreerd en geestelik arm beskryf (Op. 3:15-17). Die verval in die meeste kerke neem reeds sulke skokkende afmetings aan dat ware Christene nie meer tuis voel daar nie en in elk geval nie geestelik opgebou word nie. Wat staan hulle onder hierdie omstandighede te doen?

Die Here Jesus verwag van sy dissipels om geensins deel van die verval te wees nie, maar by ‘n teenoorgestelde proses van groter heiligheid betrokke te raak. Dit beteken dat die paaie van die onregverdiges en regverdiges duidelik uitmekaar moet loop: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word” (Op. 22:11).

Namate die wêreld verder in goddeloosheid verval en op die groot oordele van die dag van die Here afstuur, moet die ware Christene só in heiligheid toeneem dat almal sal kan sien aan wie hulle behoort: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas” (2 Pet. 3:11-12).

Spoedig sal ons voor ‘n heilige God verskyn, en vir hierdie ontmoeting móét ons heilig wees, want sonder heiligmaking sal niemand die Here Jesus [as Bruidegom] sien nie (Heb. 12:14). Dit is uit die Bybel duidelik dat ons die heiligmaking waartoe ons geroep is, hier op aarde moet najaag en deelagtig word, want dit is in ‘n donker wêreld waar ons lig helder moet skyn. Neem die Here se beloftes oor heiligmaking in die geloof aan: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1).

Hierdie boek is geskryf om u te help om die opdrag oor heiligmaking uit te voer. Die Here soek in ‘n tyd soos hierdie manne en vroue wat bereid is om teenoor die heersende tydgees van kompromie en lae geestelike standaarde ‘n standpunt vir Bybelse beginsels in te neem: glo in die goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel, glo in die maagdelike geboorte en godheid van die Here Jesus, glo in sy soendood aan die kruis om die losprys vir ons sonde te betaal, in sy liggaamlike opstanding uit die dood, in sy hemelvaart en wederkoms; glo en verkondig die leer van bekering en wedergeboorte uit genade, asook die tweede genadewerk van heiligmaking.

Die Here wil jou deur sy Woord en Heilige Gees, op grond van die genadewerk van die Here Jesus, as mens van God volkome maak, vir elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:17). Hy wil jou in sy diens gebruik, en hiervoor wil Hy jou heilig en toerus.

 

1. Die Behoefte aan Heiligmaking

Die regverdigmaking wat op grond van bekering plaasvind, moet na ‘n duidelike ervaring van heiligmaking in alle Christene se lewens lei. Die behoefte hieraan word duidelik in die Evangelies deur die Here Jesus aan sy dissipels gestel, en ook in al die ander boeke van die Nuwe Testament beklemtoon. Wanneer hierdie geestelike behoefte goed begryp word, sal die oplossing van vervulling met die Heilige Gees erken en met oorgawe deur meer Christene gesoek word.

Heiligmaking as ‘n tweede genadewerk ná regverdigmaking is ‘n noodsaaklike ondervinding in ‘n Christen se geestelike lewe. ‘n Gebrek hieraan lei na ‘n lewe waarin die ou natuur – hoewel in beginsel afgelê (Gal. 5:24) – nie in die praktyk gekruisig is nie en die persoon dus ook nie met die Heilige Gees vervul is nie. Die gevolg hiervan is dat die werke van die ou, vleeslike natuur dominant in sy lewe bly. Dit manifesteer in gesindhede soos oorheersing deur die eie-ek, geestelike arrogansie en meerderwaardigheid, materialisme, wêreldgesindheid, ‘n kritiese en veroordelende gees teenoor ander Christene, geestelike onvrugbaarheid, verkeerde prioriteite en ‘n lewe van val en opstaan.

Die behoefte aan heiligmaking in die kinders van God se lewens word telkens in die Bybel genoem. Begrippe wat direk hiermee in verband staan, is die vervulling of salwing met die Heilige Gees, dissipelskap, vrugte dra wat by die bekering pas en geestelike volwassenheid. Die volgende is sommige van die duidelikste stellings oor die behoefte aan heiligmaking:

Die eie-ek in die dissipels se lewens

Die dissipels het ‘n duidelike behoefte aan die vervulling met die Heilige Gees getoon omdat hulle so vol van hulleself was. Jesus het hulle hierop gewys toe hulle onder mekaar geredeneer het oor wie die grootste en belangrikste onder hulle was (Luk. 22:24-26; Matt. 20:27-28). Ook het hulle verkeerdelik gemeen dat hulle uit eie krag getrou aan die Here Jesus kon bly en Hom nie sou verloën nie. Petrus het vir Christus in dieselfde nag egter drie maal verloën nadat hy uit eie krag gesê het dat hy dit nie sou doen nie (Matt. 26:33-35).

Die gebrek aan geestelike vrug

‘n Verdere aanduiding van ‘n behoefte aan heiligmaking is die gebrek aan geestelike vrugte in ‘n persoon se lewe. Hy is soos ‘n boom wat wél leef, maar geen vrug dra nie. “Dra dan vrugte wat by die bekering pas” (Matt. 3:8). Jesus het gesê: “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem [die Vader] weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon sodat dit meer vrug kan dra” (Joh. 15:3).

Die behoefte aan die krag van die Heilige Gees

Jesus het die dissipels beveel om nie met die opdrag van evangelisasie te begin voordat hulle met die instaatstellende krag van die Heilige Gees vervul is nie: “En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle, maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:49). Dit sou hulle bekwaam maak om die wêreld in die Naam van Jesus Christus aan te spreek: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).

Oorwinning oor versoekings

Die Here Jesus het gesê: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). Om heilig te kan lewe en oor sonde en versoekings te oorwin, moet ons altyddeur waak en bid. Sodoende bly ons voortdurend in Christus en Hy in ons. Ons word voor ‘n duidelike uitdaging gestel om toegewyd te leef en oor versoekings en vleeslike swakhede te triomfeer.

‘n Nuwe ingesteldheid ten opsigte van sonde en diensbaarheid

Heiligmaking vereis ‘n duidelike ingesteldheid téén sonde en vír God se geregtigheid. Paulus sê: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend vir God in Christus Jesus, onse Here… Nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe” (Rom. 6:11,22). Ons moet dus voortdurend sorg dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie, maar verander word deur die vernuwing van ons gemoed sodat ons God se wil kan ken en ook van harte sal doen.

Die voortgesette doding van die werke van die vlees

Die vlees, of ou natuur van die mens, onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie (Rom. 8:7). Daar is net een raad met hom, en dit is dat hy gekruisig moet word. As die vlees nie aktief en doelbewus gekruisig word nie, sal hy jou aftrek in die verdoemenis in. “As julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Rom. 8:13). Ek moet my daagliks met die kruis van Christus vereenselwig, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld (Gal. 6:14). Selfs volwasse Christene wat reeds op die weg van heiligmaking gevorder het, word versoek om opnuut vleeslike begeertes te begin najaag, bv. rykdom en selfverheffing. Ons verbintenis tot heiligmaking moet dus gereeld weer bevestig en hernu word.

Die verlammende gevolge van vleeslikheid

‘n Vleeslike ingesteldheid het ‘n hoogs verlammende effek op Christene en lê enige moontlikheid van geestelike groei aan bande. Die apostel Paulus het aan die sukkelende, vleeslike Korinthiërs gesê:

“En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3).

Mense groei nie sommer vanself uit hierdie toestand van vleeslikheid nie. Hulle moet ‘n volle oorgawe maak waarin die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede, met al sy eiesinnigheid en soeke na selfverheerliking, oorgelewer word om gekruisig te word.

Geestelike onvolwassenheid

Die algemene verskynsel van geestelike onvolwassenheid onder kinders van die Here beklemtoon die behoefte aan heiligmaking en groei baie sterk. Hiersonder is ‘n persoon onbruikbaar in die diens van die Here en het ook nie die geestelike onderskeidingsvermoë om dwalings te kan identifiseer nie. Paulus sê ons moet almal opgroei “tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14).

Deur heiligmaking vorder jy op hierdie pad tot op die punt waar jy self andere uit die Woord van God kan leer. Deur ‘n gebrek aan heiligmaking en geestelike groei sal jy nooit hiertoe in staat wees nie. Die Hebreërs word oor hulle geestelike stagnasie gekritiseer:

“Hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van bekering” (Heb. 5:12–6:1).

Die hindernis van die oue mens

Die rede waarom Christene nie ‘vanself’ opgroei tot geestelike volwassenheid en oorwinning nie, is omdat die struikelblok van die oue mens, met ander woorde hulle ou, sonde-geneigde natuur, eers uit die weg geruim moet word voordat hulle ongehinderd volgens die nuwe mens sal leef. Gelowiges word vermaan:

“…dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).

Die behoefte aan ‘n tweede genadewerk

Die tweede genadewerk staan duidelik in verband met ‘n heilige lewe, en volg op die eerste genadewerk van inisiële reiniging en wedergeboorte. Jesus Christus het Homself vir altwee hierdie genadewerkinge aan ons oorgegee:

“Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).

Vervulling met die Heilige Gees

Die tweede genadewerk word ‘n werklikheid deur die vervulling met die Heilige Gees. Hiervoor moet ons ‘n oorgawe maak waarin ons van alle oorheersing deur sonde in ons lewe afstand doen en onsself aan die volle heerskappy van die Heilige Gees oorgee: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18). Hierdie oorgawe moet ook ‘n lewenswyse word: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).

‘n Strewe na volmaaktheid

Die apostel Paulus sê:

“Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry… sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word… Nie dat ek al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp” (Fil. 3:7-12).

Paulus was nie volmaak nie, maar hy was duidelik in ‘n proses van vervolmaking. Hiervoor is daar twee dinge nodig: (1) ‘n bewustelike aflegging van die ou lewe en dit wat die wêreld alles aan jou bied, en (2) ‘n proses waarin jy toenemend aan die opstandingslewe van Jesus Christus gelykvormig word. Die beoefening en najaag van die nuwe lewe is basies wat die proses van heiligmaking behels.

Die uitleef van hemelse beginsels

In die lig van ons hemelse burgerskap moet ons heilig en afgesonderd in hierdie verdorwe wêreld leef. Mense wat volgens die eerste beginsels van die vlees en die wêreld leef, is nie geskik om eendag hemel toe te gaan nie. Paulus sê:

“Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor hulle wat glo, hoe ons, soos julle weet, net soos ‘n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig het en betuig het dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep” (1 Thess. 2:10-12).

In die lig van die naderende wederkoms en ons persoonlike ontmoeting met die Here Jesus moet ons onsself van al die sondige praktyke van die wêreld distansieer en die heiligmaking najaag, waarsonder niemand die Here sal sien nie (Heb. 12:14). Hy wat die hoop op Jesus se wederkoms het en homself hierop voorberei, “reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).

‘n Lewe van aflê en beklee

Ná bekering moet ons deur die heiligmaking voortgaan om oorblywende aspekte van die ou lewe af te lê en ons toenemend met die nuwe lewe te beklee. Saam met die Christene in Kolosse kry ons die volgende duidelike opdrag:

“Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het… Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het… En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is” (Kol. 3:8-14).

Die behoefte aan volkome heiligmaking

Ná sy inisiële heiligmaking by redding (dit is die eerste reiniging van ons sondes) het ‘n Christen beslis ook nodig om met die Heilige Gees vervul te word en sodoende deur die Here met die krag tot volkome heiligmaking beklee te word:

“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24).

Dit is net die Here wat ons “harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus” (1 Thess. 3:13). Dit vereis egter ook getrouheid en gehoorsaamheid van ons kant af om die Here op hierdie nuwe en lewende weg te volg en van harte te dien.

Die versaking van wêreldse begeerlikhede

Die genade van die Here wat tydens bekering aan ons gebied word, lei en verbind ons daartoe om ná ons redding ‘n heilige en vroom lewe in afwagting op die Here Jesus se wederkoms te lewe:

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:11-13).

Die motivering vir ‘n heilige lewenswandel

Die motivering vir heiligheid is geleë in die karakter en wil van God self, wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Dit is sy uitdruklike wil vir ons lewe: “…dit is die wil van God: julle heiligmaking… Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3,7-8). In die lig hiervan, sê Petrus, moet ons alle boosheid, bedrog, geveinsdheid, afguns en kwaadpratery aflê, en sterk verlang na die onvervalste melk van die Woord (1 Pet. 2:1-2).

Die struikelblok van die wêreld

Dit is geestelike ontrouheid teenoor die Here om met die wêreld en sy sonde kompromie te maak: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God” (Jak. 4:4). Die wêreld moet verloën word. Ons kan nie wêreldse gewoontes en beginsels met ‘n lewe van heiligmaking versoen nie.

Die reël van oorwinning oor sonde

Die grondreël van die Christen se lewe in hierdie bose wêreld is dat hy aan die Here getrou moet bly deur nie te sondig nie. As hy wél sondig, is dit ‘n ramp in sy lewe. Dit kan weer vergewe word, maar weens die skade en skande daarvan moet sonde liewer deur ‘n heilige lewe voorkom word: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n voorspraak by die Vader, Jesus Christus die Regverdige” (1 Joh. 2:1).

Die werke wat die bewys van ‘n ware geloof is

‘n Oorgawe tot heiligmaking bring ons in die regte geestelike ingesteldheid om die vrug van die Gees in ons lewens te laat gedy. Hierdie werke is die bewys van ‘n ware geloof. Jakobus sê dat die geloof sonder werke dood is (Jak. 2:14,26). Hierdie werke is nie wat jy vír die Here doen nie, maar wat Hy déúr jou doen. Jy moet net ‘n oop kanaal wees waardeur die Heilige Gees kan werk. Sonder werke van hierdie aard gaan jy ‘n onsekere toekoms tegemoet. Jy is dan óf ongered met ‘n dooie geloof, óf jy is nog net by die toetreepunt van die geloofslewe en sal eendag as gevolg van jou onvrugbare lewe met leë hande voor die Here staan – gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15).

Toenemende heiligmaking

Heiligmaking is ‘n dinamiese proses wat ook in sy omvang en intensiteit moet toeneem. Petrus sê dat ons voortdurend moet groei in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus (2 Pet. 3:18). Een van die laaste opdragte aan die kerk het op toenemende heiligheid en diensbaarheid betrekking: “Laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12).

Volharding in die suiwer leer

Heiligmaking vereis dat ‘n persoon in die gesonde leer van die Bybel sal volhard en die kompromiemakers en afvalliges in liefde teregwys en vermaan:

“Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim. 4:2-5).

Die afvalliges en vleeslikes moet hulle verootmoedig: ‘n ‘Broeder’ wat van die waarheid afgedwaal het, moet vermaan word en hom uit sy dwaalweë bekeer (Jak. 5:19).

Aanhoudende vermaning teen verval

Met leerstellige verval gaan daar ook geloofsverval en morele verval gepaard. Dit kan alles aan die verleiding van Satan toegeskryf word, waaraan sommige mense toegee. Wanneer ander Christene hierdie verwoestende verskynsel in ‘n broeder se lewe opmerk, moet hulle hom ernstig vermaan en tot ‘n nuwe oorgawe vir geestelike herstel en heiligmaking oproep:

“Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13).

Hoe moet daar teen ‘n broeder of suster opgetree word wat in die sonde geval het? Hulle moet beslis nie summier veroordeel, geïgnoreer of ‘afgeskryf’ word nie, want enige persoon kan dalk in dieselfde situasie beland. Sulke persone moet gehelp word:

“Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal 6:1).

“Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:12).

Die probleem van teruggevalle Christene

Die heel eerste geestelike bate wat ‘n teruggevalle Christen verloor, is sy heiligmaking. Deurdat hy aan die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede toegee, gaan hy willens en wetens onder die beheer van die Heilige Gees uit en begin om weer onder die mag en invloed van die vlees te lewe. Die Galásiërs het ná ‘n goeie begin leerstellig veragter en in die mag van die vlees geëindig:

“O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie? … Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Gal. 3:1,3).

Wanneer ‘n mens in hierdie toestand verval het, beland jy in ‘n geestelike skaakmatposisie. Jy kan nie meer jou goeie voornemens uitvoer nie, omdat die vlees (jou ou, sondige natuur) weer ‘n vastrapplek en ‘n groot mate van beheer in jou lewe gekry het en ‘n ernstige struikelblok in jou geestelike lewe is:

“Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).

Die gevolge van geestelike veragtering

Verskeie van die werke van die vlees begin weer in ‘n teruggevalle persoon se lewe te manifesteer. Dit kan hoogmoed, geldgierigheid, arrogansie, onbeheerde of perverte seksualiteit, buite-egtelike verhoudings, leuens, woede-uitbarstings, lastertaal, drankmisbruik of verskeie ander sondes wees. Hieruit sal dit vir almal duidelik wees dat die betrokke persoon nie meer heilig lewe nie. Daar is mense wie se verval nie die vorm van selfverheffing aanneem nie, maar eerder as selfbejammering en verbitterdheid tot uiting kom:

“…en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het” (Heb. 12: 15-16).

Baie mense wat in die genade veragter en hulle heiligmaking verloor het, raak verbitterd oor wat met hulle gebeur het. Hulle kan teen omstandighede verbitterd raak, teen ander mense, en selfs teen God, vir wie hulle ook vir hulle teëspoede en probleme blameer. Hierdie negatiewe gedagtes word in gesprekke op andere oorgedra, en sodoende trek hulle ander mense af en besoedel hulle geestelik. Hoereerders en kompromiemakers beklad nie net hulle eie lewens nie, maar benadeel ook die naam van die Christendom en ontmoedig jong gelowiges om die goeie stryd van die geloof te stry.

Paulus sê vir Timotheus dat hy “aan die geloof en ‘n goeie gewete moet vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Volharding is nodig, “want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Paulus sê ook vir die Kolossense dat hulle gegrond en vas moet bly in die geloof en hulle nie van die hoop van die evangelie moet laat afbring nie (Kol. 1:23).

Die uitweg uit ‘n toestand van geestelike verval is terug na Christus, waar jy al jou sondes moet bely en laat staan. Die verlore seun het dit gedoen, en is volkome herstel. Gereinig deur die bloed van die Lam, kan jy opnuut om die vervulling met die Heilige Gees bid. Dawid, wat ook in ‘n stadium teruggeval het, het sy sondes bely en om volkome herstel gebid (lees Ps. 51).

Dit is duidelik dat daar ‘n uitreiking na teruggevallenes moet wees, want daar is baie sulke mense in die samelewing. Hulle moet so gou as moontlik geestelik herstel en deur goeie onderrig in die leer van heiligmaking bevestig word. Vleeslike Christene is kandidate vir terugval omdat hulle lewens nie onder die beheer van die Heilige Gees is nie (vgl. 1 Kor. 3:1-4). Geestelike onderskeidingsvermoë en die nodige krag tot oorwinning ontbreek nog in hulle lewens.

Ons het ‘n groot behoefte aan heiligmaking en oorwinning in ons lewe! Dit is die rede waarom almal van ons die opdrag het om ná ons bekering te wag op die Here totdat ons met krag uit die hoogte toegerus is (Luk. 24:46-49; Hand. 1:8). Deur ‘n oorwinnende lewe word die Here geëer en sy koninkryk op aarde uitgebrei.

 

2. Die Stryd Teen Vleeslikheid

Baie Christene leef in ‘n toestand van vleeslikheid voort deurdat hulle nie na ‘n lewe van oorwinning in die krag en onder die leiding van die Heilige Gees streef nie. Die gevolg hiervan is dat die eienskappe van die vlees oorheersend in hulle lewe bly en alle moontlikheid van geestelike groei uitskakel. Hulle bly klein kindertjies in die Here wat as gevolg van hulle beperkings en tekortkomings onbevoeg is om geestelike werk te doen. Hulle vertoon nie die vrug van die Gees nie en word deur verdorwe menslike emosies soos selfgesentreerdheid, twis, jaloersheid en tweedrag gekenmerk. Daar is egter ‘n oplossing vir hierdie ernstige probleem.

Paulus klassifiseer mense geestelik soos volg, en maak spesifiek vir ‘n kategorie van vleeslike Christene voorsiening:

“Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge…” (1 Kor. 2:14-15).

“En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike [mense], soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3).

Uit 1 Korinthiërs 2:14-15 is dit duidelik dat daar basies twee groepe mense op aarde is. Die eerste groep is die natuurlike mense wat nog ongered is en volkome deur hulle gevalle natuur en verduisterde gemoed oorheers word. Hierteenoor is daar die geestelike mense wat gered is en ook deur die Gees van God vervul en gelei word. Volgens 1 Korinthiërs 2:16 het hulle die sin van Christus, met ander woorde geestelike insig en verligte oë van die verstand om die dinge van die Here te kan verstaan (Ef. 1:17-18).

Wanneer Paulus homself spesifiek tot die gemeente in Korinthe rig, spreek hy hulle nie as natuurlike mense aan nie omdat hulle, met die uitsondering van ‘n paar valse broeders, wél ‘n getuienis van redding gehad het. Hy beskryf hulle as ‘broeders in Christus.’ Paulus spreek hulle egter ten spyte van hulle Christenskap nie as geestelike mense aan nie, maar as vleeslike mense. Hulle het nog nie die geestelike beginsels van die nuwe lewe verstaan en uitgeleef nie.

Die vleeslikes

Wat is hierdie derde kategorie van vleeslike Christene? Dit moet met ‘n baie groot probleem in verband staan, omdat vleeslike mense meesal in die Nuwe Testament as sondaars beskryf word wat op pad hel toe is (vgl. Rom. 8:5-7,13).

Die vlees is duidelik die gevalle, sonde-geneigde natuur van die mens. Dit is tot in sy kern verrot en kan glad nie gerehabiliteer word nie, maar moet doodgemaak word. In Bybelse taal moet die vlees gekruisig word (Gal. 5:24). Die mag daarvan moet gebreek word, sodat die persoon deur die Gees gelei en beheer kan word.

Hoe is dit dan moontlik dat Christene onder die mag van die vlees kan leef? Dit is ‘n aanduiding van een van twee probleme in hulle lewe: Hulle het óf nagelaat om ‘n volle oorgawe te maak waarin die ou natuur vir kruisiging oorgelewer word sodat hulle met die Heilige Gees vervul kan word, óf hulle het, soos die Galásiërs, teruggeval deur in die Gees te begin en in die vlees te eindig (Gal. 3:3). Hulle is dus óf gestagneerde óf teruggevalle Christene. Die Korinthiërs het duidelik in ‘n vroeë stadium geestelik gestagneer.

Die feit dat hierdie Christene vleeslik was, het ‘n groot blokkasie vir die praktiese uitlewing van hulle getuienis na buite ingehou. Dit het hulle daarvan weerhou om geestelike mense, met ander woorde Geesvervulde Christene, te wees.

Ons gaan nou die gevolge van vleeslikheid in Christene se lewens in oënskou neem, soos wat dit deur dr. Andrew Murray in ‘n preek van hom oor 1 Korinthiërs 3:1-4, getiteld “Vleeslik en geestelik,” uiteengesit is. Hy het hierdie boodskap in die herlewingstyd gebring, en dit het baie mense in Suid-Afrika én Engeland gehelp om die oorwinnende lewe onder die leiding van die Heilige Gees deelagtig te word en uit te leef (Bron: Algehele oorgawe deur dr. Andrew Murray. NGK Uitgewers).

Die rede waarom groot dele van hierdie preek woordeliks aangehaal word, is omdat die oorheersende probleem van vleeslikheid, asook die gevolge daarvan onder Christene in die kerk van daardie tyd, duidelik uitgewys word. Die feit dat ‘n groot groep Christene boodskappe van dié aard ter harte geneem, hulleself ondersoek en ‘n nuwe oorgawe aan die Here gemaak het, was ’n deurslaggewende faktor vir die uitbreek van herlewing in Wellington. Hierdie Bybels-gefundeerde en Heilige Gees-gewerkte herlewing het daarna ook na baie ander gemeentes in Suid-Afrika versprei. Dit sal ons beslis ook baat om ons verhouding met die Here te ondersoek en reg te stel wat verkeerd is.

In die boodskap word die negatiewe gevolge van vleeslikheid in ‘n Christen se lewe só verduidelik:

1. Vleeslikheid gaan met ‘n gebrek aan geestelike insig gepaard

Andrew Murray sê hieroor:

Die apostel Paulus het gevoel dat al sy prediking sonder vrug sou wees as hy met mense wat nie geestelik was nie, oor geestelike sake sou praat. Hulle was Christene, ware Christene, klein kinders in Christus, maar daar was een dodelike gebrek – hulle was vleeslik. Die apostel sê dus aan hulle: “Ek kan nie aan julle geestelike waarhede aangaande die geestelike lewe meedeel nie, want julle kan dit nie begryp nie.” Dit was nie omdat hulle dom was nie. Hulle was intelligent en het baie kennis gehad, maar hulle was nie in staat om geestelike onderrig te kon begryp nie. Hieruit leer ons dié eenvoudige les: die hele probleem in die kerk van Christus met Christene wat soms ‘n seën ontvang en dit dan weer verloor, is omdat hulle nog vleeslik is. Wat ons nodig het om die seën van die nuwe lewe te behou, is om geestelik te word. Ons moet kies watter soort Christelike lewe ons wil lei – die vleeslike lewe of die geestelike. Kies die geestelike en God sal behae daarin skep om dit aan u te gee...

Daar is soms Christene wat honger en dors na die Woord, wat daarna luister en sê: “Watter heerlike waarhede, watter duidelike leerstelling, watter wonderlike uiteensetting van God se Woord!” en tóg word hulle nie een enkele tree vorentoe gehelp nie; of hulle word vir twee of drie weke gehelp, en dan verdwyn die seën weer. Wat is die rede hiervoor? Daar sit ‘n kwaad aan die wortel: die vleeslike toestand verhinder die siel om geestelike waarhede in te neem en uit te leef.

Ek is bevrees dat ons dikwels in ons kerke ‘n groot fout begaan om aan vleeslike Christene te verkondig wat alleen vir geestelike mense geskik is. Hulle vind dit baie mooi, vat dit met hulle verstand en verlustig hulle daarin, en nogtans bly hulle lewens onveranderd in weerwil van die geestelike onderrig wat hulle ontvang. As daar een ding is wat elkeen van ons God gedurig voor moet bid, dan is dit dít: “Here, verhoed tog dat ek geestelike onderrig in ‘n vleeslike hart sal opneem.” Die enigste bewys dat u ‘n seën ontvang, is dat u uit die vleeslike toestand oorgebring sal word in die geestelike. God is gewillig om dit te doen. Laat ons daarom bid en dit in die geloof aanneem.

Die gebrek aan geestelike insig en onderskeidingsvermoë word ook deur Paulus aan die gemeente in Éfese verduidelik. Vir hulle sê hy dat ons almal uit die wankelende en onkundige kinderstadium moet opgroei “tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14). Ons moet dus nie passief terugsit ná ons bekering nie, maar deur ernstige Bybelstudie die dieper waarhede in God se Woord ontdek en in ons lewens toepas. Daar is ‘n hoë roeping in Christus.

2.  Vleeslikheid is ‘n toestand van verlengde geestelike onvolwassenheid

Oor die tweede rede vir vleeslikheid het Andrew Murray gesê:

U is lank gelede bekeerd en u moes nou al ‘n jong man gewees het, maar u is is nog steeds ‘n klein kindjie in Christus. “Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spyse nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie.” U weet hoe mooi ‘n babatjie is. Mens kan nouliks iets aantreklikers vind as ‘n kindjie van ses maande met sy rooi wangetjies en laggende gesiggie. Veronderstel ek het só ‘n kind gesien, en ná ses maande kom ek terug en vind die kind niks groter nie. Die ouers sou dan ook al onraad bemerk het omdat hy nie groei nie. En as ek ná drie jaar sou terugkom en vind dat die kind nog niks groter is nie, sou ek die ouers baie treurig aantref. Hulle sou my meedeel: “Die dokter sê die kind het ‘n vreeslike kwaal – hy kan nie groei nie. Hy sê dit is ‘n wonder dat die kind nog lewe, en tóg leef hy.” Ná tien jaar kom ek weer daar, en steeds is dit net ‘n hulpelose baba wat nog niks gegroei het nie.

U sien, kindskap op sy regte tyd is die mooiste ding in die wêreld, maar kindskap wat té lank duur, word ‘n las en ‘n oorsaak tot droefheid – ‘n teken van siekte. Dit was die toestand van baie van daardie Christene in Korinthe – hulle het babas in die geloof gebly.

‘n Kenmerk van ‘n baba is dat hy homself nie kan help nie en dus ook nie andere kan help nie. Dit is die lewe van baie Christene. Hulle maak van die predikante geestelike verpleegsters van babas. Dit is ‘n ernstige saak dat daardie geestelike babas hulle predikante al die tyd besig hou om hulle te versorg en te voed, en nooit help hulle hulself nie. Hulle weet nie hoe om hulleself uit die Woord van Christus te voed nie, en nou moet die predikant hulle voed. Hulle weet nie wat dit is om met God in aanraking te kom nie, en die predikant moet vir hulle bid. Hulle weet nie wat dit beteken om te lewe soos mense wat ‘n God het om hulle te help nie, en wil maar altyd net versorg word. Pas op dat dit nie die rede is waarom u na ‘n konferensie of ‘n kerk toe gaan, sodat u verpleegsters vir u geestelike voedsel moet voorsit nie. Prys die Here vir die verkondiging van die evangelie en vir die gemeenskap van die gelowiges, maar daar móét groei en ontwikkeling wees sodat ons ook andere kan help.

As ‘n klein kindjie, ‘n geestelike baba van drie maande, vleeslik is en nie heeltemal goed weet wat sonde is, en nog nie oorwinning daaroor het nie, dan is dit nie iets om oor verwonderd te wees nie. As ‘n man egter jaar ná ‘n jaar in dieselfde toestand voortleef en altyd deur die sonde oorheers word, dan is daar iets radikaals met sy geestelike lewe verkeerd. Niks kan ‘n kindjie in voortdurende kindsheid hou as net een of ander soort kwaal nie. As ons gedurig moet sê: “O God, ek is nie geestelik nie,” laat ons dan tog liewer sê: “O God, ek is vleeslik. Ek verkeer in ‘n sieklike toestand en wil graag daaruit verlos word.”

In die brief aan die Hebreërs vind ons dieselfde onvolwasse toestand: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spyse is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan” (Heb. 5:12-6:1). Ons moenie ná ons redding stagneer nie, maar opgebou word in die geloof.

3.  Vleeslikheid is ‘n toestand waarin sonde en mislukking die botoon voer

Dr. Murray is nog steeds aan die woord:

Watter bewyse voer Paulus aan dat hierdie mense vleeslik was? Hy beskuldig hulle van verkeerde gesindhede en dade: “Want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie?” Hulle tree net soos die ander mense op en nie soos mense wat nuut gemaak is en in die liefde en krag van die Heilige Gees lewe nie.

U weet dat God ons liefhet, dat Hy in die lig woon en dat liefde die groot gebod is. Die kruis van Christus is die bewys van God se liefde, en liefde is ook die eerste en belangrikste vrug van die Heilige Gees. Wanneer mense toegee aan hulle humeur, hoogmoed, jaloersheid en tweedrag; wanneer u mense bitsige dinge van ander hoor sê – wanneer ‘n man nie iemand anders volkome kan vergewe nie; wanneer ‘n vrou met veragting van haar buurvrou praat as “daardie nare ou ding,” of van iemand anders kan sê: “O, wat ‘n hekel het ek in daardie vrou” – dit alles is die vrugte van die vlees. Elke stukkie liefdeloosheid is niks anders as die vlees nie. Die vlees is selfsugtig en hoogmoedig en liefdeloos, daarom is elke sonde teen die liefde niks anders as ‘n bewys dat die persoon vleeslik is nie.

U sê: “Ek het dit probeer oorwin, maar ek kan nie.” Dit is juis die saak wat ek wil beklemtoon. Moenie probeer om geestelike vrugte te dra solank u nog in ‘n vleeslike toestand is nie. U sal dit nie kan doen nie, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).

Ons vleeslike natuur is nie alleen die oorsaak van liefdeloosheid nie, maar ook van so baie ander sondes. Neem wêreldgesindheid en die liefde vir geld, wat mense álles laat opoffer om ryk te word, en ook die najaag van weelde, genot en ‘n hoë posisie. Wat is al hierdie dinge anders as die vlees? Dit bevredig die vlees en is presies waarin die wêreld homself verlustig. Die vleeslike toestand word deur wêreldgesindheid en die krag van die sonde in mense se lewens bewys.

‘n Persoon het my oor sy gebrek aan liefde vir gebed geraadpleeg. Hy wou weet hoe hy die beoefening van liefdevolle gemeenskap met God deelagtig kon word. My antwoord was: “My broeder, dit kan hoegenaamd nie bereik word nie, totdat u ontdek dat dit buite die vleeslike toestand moet geskied. Die vlees kan hom nie in God verlustig nie; dit is u probleem. U moet nie ‘n besluit neem, of in u dagboek skryf: “Ek gaan meer bid” nie. U kan dit nie forseer nie. Lê die byl aan die wortel van die boom en kap die vleeslike siel uit. U kan dit nie self uitkap nie, maar laat die Heilige Gees van God met die veroordeling van sonde kom en gee uself oor om saam met Christus gekruisig te word, dan sal die Gees van God volle beheer van u oorneem. Hy sal u leer om God lief te hê, om gebed lief te hê, om u naaste lief te hê, en u sal dan nederig en hemelsgesind wees.” Die vleeslike toestand is die wortel van elke sonde.

Geestelike groei vind slegs plaas nadat die struikelblok van vleeslikheid geïdentifiseer en uit die weg geruim is. Moenie met hierdie toestand vrede maak en so voortleef nie.

4.  Die vleeslike toestand kan naas groot geestelike gawes bestaan

Dr. Murray wei soos volg hieroor uit:

Onthou, daar is ‘n groot verskil tussen geestelike gawes en geestelike gesindhede, en dit is wat baie mense nie verstaan nie. Onder die Korinthiërs was daar baie wonderlike geestelike gawes aanwesig. Paulus prys hulle dat hulle in geen enkele genadegawe agter staan nie. In 1 Korinthiërs 13 praat hy van die gawes van profesie, en van die geloof wat berge kan versit, en van kennis, maar hy sê vir hulle dat hierdie dinge hulle niks sal baat as hulle nie die liefde het nie. Hulle het hulle in die gawes verlustig maar hulle nie oor gesindhede bekommer nie. Paulus wys aan hulle ‘n nóg uitnemender weg: om te leer om lief te hê en nederig te wees, want liefde is die uitnemendste van alle dinge.

Dit is ‘n baie ernstige saak om te bepeins dat iemand die gawe van profesie mag besit, dat hy ‘n getroue en suksesvolle werker in een of ander werkkring mag wees, en dat hy tóg deur sy skerpe oordeel en die hoogmoed wat daar by hom opkom, asook deur ander dinge, bewys mag lewer dat hy ten spyte van al sy gawes nog ‘n gebrek aan geestelike gesindhede het. O, pas tog op dat Satan jou nie deur dié gedagte bedrieg nie: “Maar ek werk vir God en Hy seën my. Ander mense sien na my op en ek is die persoon waardeur hulle gehelp word.”

Geliefde mede-Christene, die feit dat ‘n vleeslike Christen geestelike gawes mag hê, behoort ons onuitspreeklik ernstig te stem. Dit behoort die ernstigste en voorspoedigste persoon op sy knieë voor God te bring met die gedagte: “Ná alles wat God se Gees as ‘n gawe in my gewerk het, gee ek nie miskien deur my gebrek aan nederigheid of liefde of reinheid of heiligheid aan die vlees toe nie?” Mag God ons om sy Naam ontwil deursoek en toets.

Die oplossing

Die oplossing van die probleem van vleeslikheid begin daar waar ‘n mens tot die besef kom dat daar oorwinning oor sonde en vleeslikheid is. Dit ís vir ons moontlik om elke dag onder die leiding van die Heilige Gees te lewe. Die Here sê in sy Woord dat sy liefde in ons harte uitgestort word deur die Heilige Gees. Hy beveel ons ook om met die Heilige Gees vervul te word en dit die krag van ons hele lewe te maak: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Dit is die lewe waartoe God ons roep en waarvoor Christus ons vrygekoop het. Nadat Hy sy bloed aan die kruis gestort het, het Hy na die hemel toe gegaan om die Heilige Gees in sy volheid oor ons uit te stort.

Glo in die krag van die bloed van Christus om u te reinig, en ook in die krag van die verheerlikte Christus om sy Gees in u hart te gee, dan het u die eerste stap in die regte rigting geneem. Al voel u ook hoe ellendig, hou aan die Here Jesus vas. Hy kan u met sy Gees vervul, want sy Woord het u gebied: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).

Die vervulling met die Heilige Gees is ‘n tweede genadewerk. By ‘n mens se bekering oortuig die Heilige Gees jou van jou verlore toestand, van die afskuwelikheid van sonde, en veral van die skuld en straf van die sonde. In daardie stadium is daar maar ‘n geringe besef van jou verborge, innerlike sondes en van die ou natuur wat as die oorsaak daarvan gekruisig moet word. Die besef hiervan kom meesal ‘n tyd ná ‘n persoon se bekering baie sterk by hom op.

Wanneer die innerlike stryd tussen die vlees en die Gees die Christen tot teleurstelling en wanhoop oor sy vleeslikheid dryf, kom hy duidelik voor die uitdaging te staan om die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede oor te lewer om gekruisig te word. In die plek daarvan word hy deur die Heilige Gees met die natuur van die Here Jesus beklee. Wanneer hy hierdie stap neem, word hy ‘n geestelike Christen.

Daar is ongelukkig baie wanopvattings oor hoe om van ‘n vleeslike na ‘n geestelike Christen oor te gaan. Sommige mense meen dit is ‘n geleidelike proses waardeur almal van ons gaandeweg na ‘n toestand van geestelikheid opgroei. Dit is egter nie so nie. Andrew Murray sê:

“Mense wil graag uit die vleeslike toestand in die geestelike ingroei, en dit kan nooit gebeur nie. Hulle jaag meer prediking en onderrig na ten einde, soos hulle meen, uit die vleeslike in die geestelike in te groei. Daardie kindjie waarvan ek gepraat het, hoewel tien jaar oud, het soos ‘n baba van ses maande gebly – hy het ‘n ernstige siekte gehad en genesing was nodig. Daarna sou daar groei wees. Die vleeslike Christen bevind homself ook in ‘n ernstige siektetoestand. Eers moet die probleem van vleeslikheid uit die weg geruim word, dán sal daar groei na geestelike volwassenheid plaasvind…

Dit is die treurige toestand van die kerk dat die meeste van sy lede vleeslik bly. Hulle val gedurig onder die mag van die vlees en word gevolglik deur nyd en afguns en liefdeloosheid oormeester. Sulke Christene het geen insig in geestelike waarhede nie. Indien mens melding maak van hulle lewe in Christus, daaglikse gemeenskap met Hom, en wat God beloof om vir sy kinders te doen, dan verstaan hulle nouliks wat bedoel word. Hoe ernstig behoort ons God te bid om aan ons te openbaar wat vleeslik en wat geestelik is, en ons in staat te stel om ons geheel en al aan die leiding van sy Heilige Gees oor te gee.”

Die oorgang van vleeslikheid tot geestelikheid behels ‘n geloofstap wat geneem moet word. Die Christen moet sy vleeslikheid voor God bely, asook al die manifestasies daarvan, soos sonde-geneigdheid, hoogmoed, liefdeloosheid, biddeloosheid, dubbelhartigheid, ens. Vra die Here om dit te vergewe, jou van alle ongeregtigheid te reinig, en ook die verdorwe vlees in jou lewe te kruisig. Gereinig deur die bloed van die Lam, moet jy jouself ook oorgee om saam met Hom gekruisig te word vir die wêreld en die sonde (Gal. 6:14). Dan sal die pad oop wees om met die opstandingslewe van die Here Jesus beklee en deur sy Heilige Gees vervul te word. Hierna sal vinnige groei na geestelike volwassenheid plaasvind, omdat die struikelblok na ware geestelikheid uit die weg geruim is. Daarna moet jy daagliks jou kruis van selfverloëning opneem en sorg dat die vlees nie weer ‘n vastrapplek in jou lewe verkry nie. Jesus sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Hoe doen ons dit? Paulus sê: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14).

Dit is die pad van geestelike oorwinning waartoe die Here elkeen van ons roep. Het u die oorwinning oor sonde, die wêreld en die vlees al deelagtig geword? Vertrou die Here hiervoor en ervaar ‘n wonderlike nuwe krag, blydskap, en godvrugtigheid in u geestelike lewe. “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Rom. 8:1).

 

3. Die Eise van Dissipelskap

Dissipelskap en heiligmaking is sinonieme. Hierdie twee begrippe behels reiniging en afsondering vir die diens van die Here. Dit berus op ‘n ooreenkoms waarin beide die ontvanger en die Gewer aan bepaalde voorwaardes verbind word. Die ontvanger moet homself verloën en sy kruis opneem, terwyl die Gewer beloof om aan sy dissipel die instaatstellende krag van die Heilige Gees te verleen. Die doel met hierdie ooreenkoms is om die evangelieboodskap deur getuies van Jesus te laat uitdra sodat die koninkryk van God op aarde deur die redding van siele uitgebrei kan word.

“En [Jesus] sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen? Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele” (Luk. 9:23-26).

In Lukas 14:27 sê die Here Jesus: “En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.”

Daar moet dus ‘n bepaalde kosteberekening vir dissipelskap gedoen word. Nadat ‘n persoon vir Jesus Christus as Verlosser aanvaar het en wederbaar is, word hy uitdruklik met die eis van dissipelskap gekonfronteer. Dit behels ‘n verloëning van die self wat die eie-ek, of die ou, sondige natuur van die mens is. Dissipelskap kan eers ‘n werklikheid word nadat die kruis van selfverloëning opgeneem is. In reaksie hierop sal die Here só ‘n persoon met die instaatstellende krag van die Heilige Gees vir sy taak toerus en vervul.

Dit is belangrik dat elke gelowige die stap van dissipelskap of heiligmaking reg verstaan en dit ook daadwerklik sal beleef. Dit was die kern van Andrew Murray se prediking in Wellington toe daar meer as 100 jaar gelede herlewing onder kinders van die Here in sy gemeente uitgebreek het. Deur die werking van die Gees is lou, biddelose, kragtelose en onaktiewe Christene in brandende getuies vir die Here Jesus omskep. Spesiale bidure is gehou en dit het ‘n groot evangelisasie-ywer by die aanwesiges geskep. Hierdie herlewing het vinnig na ander gemeentes versprei. Die begin daarvan was onder Christene wat hulleself aan die eise van ware dissipelskap onderwerp het.

Dit is duidelik dat die meeste Christene in hierdie moderne eeu nie die volle implikasies van dissipelskap en heiligmaking besef nie. Baie van dié wat dit wél begryp en hulle ook daarvoor beywer, slaag nie werklik in hulle doel nie. Dit is dus nodig om weer die Bybelse grondbeginsels daarvan te verduidelik.

‘n Kontrak

Dissipelskap behels ‘n kontrak tussen twee partye – daar is sekere dinge wat die ontvanger moet doen, en ook sekere dinge waartoe die Gewer Homself verbind. Die ontvanger is die voornemende dissipel: dit is die persoon wat die Here deur die krag van die Heilige Gees wil dien. Die Gewer is die Here Jesus wat gevolg en gedien moet word.

Verpligting van die ontvanger

Die opdrag aan die volgeling van Jesus is duidelik: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” Eerstens moet die wil by jou aanwesig wees om die Here Jesus te dien en te volg. Jy moet ‘n wilsbesluit neem waarin jy jouself tot sy beskikking stel. Sê vir Hom: “Hier is ek, Here, stuur my en gebruik my in u koninkryk. Ek is bereid om die evangelie van verlossing te deel met hulle wat dit nog nie gehoor of aangeneem het nie.”

Die voorwaarde wat aan die gewillige persoon gestel word, is dat hy homself moet verloën, sy kruis elke dag opneem en die Here volg. Dit is ‘n baie duidelike en belangrike opdrag hierdie: Verloën jouself, kruisig die eie-ek in jou lewe, daardie bedorwe, sondige natuur waarna die Bybel ook as die vlees verwys.

Hoe doen ‘n mens dit? Jy maak ‘n eerlike oorgawe waarin jy alle sonde en wêreldgesindheid aan die Here bely en die volle beheer van jou lewe aan die Heilige Gees oorgee. Erken die nutteloosheid van die vlees in die diens van die Here, hou op om daarop te vertrou, en doen daarvan afstand deur dit aan die Here oor te gee. Jy moet bereid wees om saam met Christus te sterwe. Paulus sê:

“Ek is met Christus gekruisig en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal. 2:20).

Jy sal voortaan nie meer op jouself en jou eie vermoëns en prestasies roem nie, maar net in die Here Jesus alleen. Deur sy kruis is jy vir die wêreld en die ou lewe dood. Paulus sê:

“Wat my betref mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14).

Deur hierdie stap draai jy jou rug op die ou lewe. In ‘n geestelike én verstandelike ingesteldheid moet jy reken [die vaste oortuiging hê] dat jy vir die sonde en die wêreld dood is (Rom. 6:11-13).

Belofte van die Gewer

By ‘n persoon se bekering het hy ‘toegerekende geregtigheid’ ontvang omdat hy sonder werke deur die geloof gered is – dit is ‘n geskenk van God wat sonder enige verdienste aan sy kant aan hom toegereken word. By sy oorgawe tot dissipelskap en heiligmaking word hy ‘n mede-werker van God. Die Here help hom om die struikelblok van die vlees te oorwin en verleen aan hom ‘meewerkende geregtigheid’ wat die instaatstellende krag van die Heilige Gees is om suksesvol in ‘n vyandige wêreld vir God te kan leef en werk.

Die Here Jesus se opdrag aan sy dissipels was duidelik, naamlik dat hulle nie uit eie krag vir Hom moes probeer werk nie, maar dat hulle in Jerusalem moes bly totdat hulle met krag uit die hoogte toegerus is – dán eers sou hulle sy getuies in Judéa, Samaria en die hele wêreld kon wees. Dit was ook so. Ná Pinksterdag het hulle met groot vrymoedigheid en krag van Jesus Christus se reddende genade getuig: “Hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek” (Hand. 4:31).

‘n Persoon moet eers sy bereidwilligheid vir hierdie tweede genadewerk te kenne gee en ook bereid wees om homself voor die Here te verootmoedig en alles op die altaar te lê. Die Here eer ‘n volle oorgawe tot dissipelskap en heiligmaking. Hierdeur kry die Heilige Gees wat reeds in die kind van God woon, volle beheer oor sy lewe en kan hom vorm en gebruik. Dié persoon word dan nie meer deur die vlees gelei nie, maar deur die Gees. Vinnige vordering na geestelike volwassenheid word gemaak terwyl hy in die genade en kennis van Christus toeneem. Hy word minder, terwyl die Here Jesus in sy lewe meer word. Die volle doel van sy bekering sal nou in ‘n lewe van oorwinning en diensbaarheid verwesenlik word.

Gebrek aan selfverloëning

Wat gebeur as ‘n persoon nie homself verloën en sy kruis opneem waaraan hy vir die wêreld en die wêreld vir hom gekruisig word nie? Hy is dan onbruikbaar in die diens van die Here. Jesus sê duidelik: “Elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie” (Luk. 14:27).

Iemand wat nog nie hierdie oorgawe gemaak het nie, is vol van homself, van sý planne en sý idees. Hy verkondig net sy eie oortuigings en bevorder die saak van sý kerk of organisasie, waarin die koninkryk van Christus nie noodwendig die eerste prioriteit is nie. Hy wil erkenning hê vir alles wat hy bereik, en blaas ‘n trompet voor hom om sy goeie dade bekend te maak. Voordat die dissipels met die Heilige Gees vervul is, was hulle ook vol van hulleself en het gewonder wie van hulle die grootste in die koninkryk van God was (Matt. 20:20-28). Die vlees wil altyd voor in die ry staan en deur almal raakgesien word. As sy eer gekrenk word, is hy bitter ongelukkig daaroor. In sy hart verag en verwerp hy almal wat hóm nie wil eer en ophemel nie, omdat hy voel dat hy nie kry wat hom toekom nie.

Waarom is só ‘n persoon met ‘n ongekruisigde vleeslike natuur onbruikbaar in die diens van die Here? “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Christene wat nog onder die heerskappy van die vlees is, soos dié in 1 Korinthiërs 3:1-3, is selfgesentreerd, vol twis, jaloersheid en tweedrag, en weens hulle geestelike onvolwassenheid nie as dissipels bruikbaar nie. Wanneer hulle wél die Woord verkondig, is dit nie in die betoning van Gees en krag nie, maar in oorredende woorde van menslike wysheid (1 Kor. 2:4). Dit is nutteloos, want dit oortuig mense nie van hulle sonde nie.

Dit is in ons tyd ‘n algemene verskynsel dat mense met vleeslike motiewe die Christendom misbruik om hulle eie doel in die lewe te bereik. Hulle wil hulleself verryk en aansien in die samelewing verkry, en doen hulleself dan as groot geestelike leiers voor wat die reg het om onaanvegbare uitsprake te maak. Die duiwel help sulke mense in hulle vleeslike veldtog omdat hulle in die proses duisende ander mense mislei, op ‘n syspoor plaas en hulle selfs deur ‘n valse evangelie na die verderf toe sleep (vgl. Gal. 1:6-8; 2 Kor. 11:4).

In die tyd van Jesus se aardse bediening het mense om ander redes van ware dissipelskap af weggeskram. Dit was in daardie tyd nie populêr om jouself as ‘n Christen en volgeling van Jesus te bestempel nie. Messiaanse Jode is vervolg en selfs deur hulle ouers onterf. Hulle aansien en finansiële sekuriteit was op die spel, dus was die kosteberekening vir dissipelskap hoog. Die Here Jesus het vir hulle gesê: “Elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?” (Luk. 9:24-25). Hy het ook vir hulle gesê dat as hulle hul gesinslede liewer as vir Hom gehad het, hulle Hom nie waardig was nie. Die vlees soek na sosiale erkenning en wêreldse rykdom – dit is nie op die ewige dinge van God ingestel nie en wil nie opofferings daarvoor maak nie.

Baie van die eerste eeuse bekeerlinge was skaam om dissipels van Jesus genoem te word, omdat die mense hulle gespot het. Om weens skaamte van Jesus af weg te skram, is ook ‘n vleeslike reaksie omdat die natuurlike mens nie spot en veragting kan verduur nie. Die Here Jesus het gesê dat as mense hulle vir Hom skaam, Hy Hom ook vir hulle sal skaam wanneer sy koninkryk tydens sy wederkoms geopenbaar sal word (Luk. 9:26).

Wat ook al die omstandighede waaronder ons verkeer, daar is altyd ‘n kosteberekening aan dissipelskap verbonde. Ek moet bereid wees om aansien en regte prys te gee en aan myself te sterf. As ek dít nie wil doen nie, dan diskwalifiseer ek myself om ‘n ware dissipel van Jesus Christus te wees (Luk. 14:27).

Mislukte dissipels

Die rede waarom sommige mense se heiligmaking en oorgawe tot dissipelskap nie uitwerk nie, is omdat hulle nie begryp wat hulle volle verantwoordelikheid in hierdie verband is nie. Hulle besef nie dat hulle medewerkers van God in Christus Jesus is (1 Kor. 3:9), en dat hulle moet oppas hoe hulle op die fondament van bekering bou nie. Alle Christene word gewaarsku om nie met verganklike dinge, hout, hooi en stoppels, op die fondament Jesus Christus te bou nie (1 Kor. 3:10-15). Wanneer die najaag van dinge wat geen ewigheidswaarde het nie, die hoofdoel van hulle lewe geword het, is hulle mislukte dissipels wat eendag met leë hande voor die Here sal verskyn – gered asof deur vuur heen. Hulle prioriteite is heeltemal verkeerd.

Vir sulke vleeslike Christene vra Paulus: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle” (1 Kor. 3:16-17).

Dit is ‘n baie ernstige aanklag teen Christene wat nie deur die Gees wandel nie. Hulle begryp nie ten volle dat die Heilige Gees van God in hulle woon nie, daarom bedroef hulle Hom deur openlik en volhardend met sonde en ‘n wêreldse leefwyse voort te gaan. Hulle is op ‘n gevaarlike afdraandepad in hulle geestelike lewe!

Geloof en werke

‘n Dissipel van Jesus Christus moet die beginsel van meewerkende geregtigheid goed verstaan. Hy is ‘n medewerker van God, daarom is daar bepaalde verpligtinge wat op hom rus. Hy kan nie passief in ‘n leuenstoel terugsit en wag dat dinge vanself sal gebeur nie. Hy moet opstaan, in beweging kom en doen wat sy hand vind om te doen!

Werke, as ‘n manifestasie van die vrug van die Heilige Gees, moet in sy lewe sigbaar word, want ‘n lewende geloof is dinamies en moet noodwendig tot diensbaarheid lei. Jakobus sê: “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?” (Jak. 2:14). As ‘n persoon nie vrug dra wat by die bekering pas nie, het hy ‘n dooie geloof. Jakobus sê nie dat ‘n persoon deur werke gered word nie, maar dat werke ‘n noodwendige gevolg van ‘n lewende en saligmakende geloof in die Here Jesus is.

Hoe anders kan ek die boom ken as om na sy vrugte te kyk? Ek kan nie in ‘n persoon se hart sien nie, maar sy werke sal vir my aandui of hy 'n gelowige is of nie. Dit is die rede waarom Jakobus sê: “Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon” (Jak. 2:18). Daar is ‘n direkte verband tussen die twee. Die Here Jesus het gesê: “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy [die Landbouer] weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra” (Joh. 15:2). Die loot wat geen vrug dra nie, het geen bestaansreg nie, net soos wat geloof sonder werke ook nie op die ware lewe aanspraak kan maak nie.

Voortgesette selfverloëning

Dit is opvallend dat die Here Jesus in Lukas 9:23 sê dat ons “elke dag” die kruis van selfverloëning moet opneem. “Neem jou kruis elke dag op en volg My.” Waarom is dit nodig? Dit is ‘n aspek van die gekruisigde lewe wat nie almal van ons wil of kan insien nie. Ons kan die oorwinning wat ons oor die vlees gehad het, weer verloor. Dit is nie net teoreties nie, maar ook in die praktyk moontlik om op te hou om jouself te verloën en te kruisig. Dan begin die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede, sy eiewaan en sug na grootheid, eer en rykdom weer na vore kom. Dit gaan ook met skewe en krom teologiese beskouings gepaard om jouself én andere wat in hierdie toestand verkeer, te regverdig, soos byvoorbeeld om die werklikheid van die leer van heiligmaking te ontken. Die feit is dat jy dan nie meer deur die Gees van God beheer en gelei word nie, maar deur die vlees (die eie-ek).

Vir die Galásiërs wat op ‘n soortgelyke wyse in die genade veragter het, sê Paulus: “Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? Het julle verniet so baie gely?” (Gal. 3:3). Hulle het ‘n goeie begin gemaak en die smal pad van selfverloëning geloop, maar toe sluip daar leerstellige dwalings in en hulle begin om weer in die vlees te roem. As gevolg hiervan het hulle geestelik drasties agteruitgegaan en uiteindelik weer in die Korinthiërs se kleuterskool van vleeslike Christene beland, vol eiewaan, jaloesie en tweedrag – ‘n gevaarlike situasie om in te verkeer. Paulus herinner hulle in sy brief daaraan dat ‘n weergebore Christen in beginsel reeds die vlees gekruisig het en in die praktyk doelgerig só moet leef:

“Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie” (Gal. 5:24-26).

Die opdrag is duidelik: Verloën en kruisig jouself en wandel deur die Gees volgens die voorbeeld wat Christus aan jou gestel het, dan sal jy nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie. Sulke Christene sal nie soekers van ydele, wêreldse eer word wat in die proses mekaar uittart, beny en ondergrawe nie.

Dit is ‘n goeie beskrywing van vleeslike Christene hierdie. Wêreldse eer en rykdom word weer die belangrikste oorweging in hulle lewe. Dit plaas hulle in ‘n kompetisie met andere wat hoër posisies beklee, meer eer verkry en ook hoër salarisse verdien. Hulle beny daardie mense, en daarom tree hulle ook uittartend teenoor hulle op. Sulke mense is vol van hulleself, en gee noodwendig deur hulle optrede vir andere aanstoot. Dit is vir hulle onmoontlik en onaanvaarbaar om die minste te wees, die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en ter wille van die Here se saak kwaad te verdra.

Hiermee bedoel ek nie dat dissipels van die Here altyd moet stil bly en nooit sterk standpunte teenoor mense en aktuele sake moet inneem nie. Inteendeel – hulle word geroep om kragtig te stry vir die eer van die Here en vir die waarheid van sy Woord. In só ‘n stryd gaan dit egter nie oor eiebelang nie, maar oor die saak en belange van die Here. Om bereid te wees om hiervoor kwaad te verdra, is ‘n praktiese bewys van oorwinning oor die vlees.

“‘n Dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra” (2 Tim. 2:24).

“Weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim. 4:2)

Die verantwoordelikheid van dissipels

‘n Ware dissipel moet begryp dat hy die Here nie in die krag van die vlees kan dien nie, maar slegs deur die instaatstellende krag en salwing van die Heilige Gees. Daar is dus ‘n duidelike samewerking van twee kante af. Die Here gee die krag, maar jy moet waardig voor Hom wandel en daagliks planne maak om die krag wat Hy aan jou verleen, te gebruik. Dit sal nie sonder jou medewerking in werke oorgesit word nie. Ons liggame moet aktief en doelbewus as werktuie van geregtigheid in die diens van die Here gestel word (Rom. 6:13). Neem die volgende opdragte ter harte, wat aan alle dissipels van alle tye gegee is om uit te voer:

  • “Nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe” (Rom. 6:22).
  • “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21).
  • “Dra dan vrugte wat by die bekering pas” (Matt. 3:8).
  • “[Stel] jul liggame as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie” (Rom. 12:1-2).
  • “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig” (2 Tim. 4:2).

In die uitvoering van hierdie en talle ander opdragte moet ons altyd onthou dat dit die krag van die Here is wat deur ons swak liggame werk. Die eer en die roem vir die oorwinning kom Hom alleen toe. Vir alles wat Paulus in ‘n lewe van diensbaarheid bereik het, het hy die eer aan die Here gegee wat hom daartoe in staat gestel het; daarom kon hy sê: “Ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is” (1 Kor. 15:10). Hy het besef dat hy sonder die Here niks kon doen nie – dit is alles net genade. Nogtans moes hy as ‘n medewerker van God homself aktief in die diens van die Here beywer. Hy het gesê: “Ek kasty my liggaam en ek maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Die Here het ons nie net gered om eendag hemel toe te gaan nie, maar om sy dissipels in ‘n verloregaande wêreld te wees en andere na Hom toe te lei.

Mag die Here aan elkeen van ons die genade verleen om te besef wat die hoë roeping van God in Christus Jesus is. Hy wil ons nie alleen uit die duisternis tot sy wonderbare lig trek nie, maar ook van ons Geesvervulde dissipels van Hom maak – bruikbare werktuie in sy reddende regterhand. Is u bereid om hiervoor bekwaam gemaak te word? Verootmoedig u dan voor die Here en wag op Hom totdat Hy u toegerus het met krag uit die hoogte. Volgelinge van die Here wat hierdie aandoening met krag het, sal oral waar hulle gaan sy getuies wees, tot aan die uiterste van die aarde.

Dit is oor en oor die moeite werd om ‘n dissipel van Jesus te wees en dinge na te streef wat ewigheidswaarde het. Dan sal jy nie geweeg en té lig bevind word nie. Jou werke sal nie voor die regterstoel van Christus in rook opgaan wanneer dit getoets word nie, maar tot eer van sy Naam sal jy genadeloon ontvang. Wanneer Hy spoedig terugkom, sal Hy ook aan jou sê:

“Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou Heer” (Matt. 25:21).

 

4. Oorwinning Oor die Vlees: Die Stap van Heiligmaking

Die leerstelling oor heiligmaking behels twee duidelik onderskeibare aspekte, naamlik die aflê van die ou, sonde-geneigde natuur, en die vervulling met die Heilige Gees waardeur ons met ‘n nuwe natuur beklee word. Indien hierdie stap nie geneem word nie, dan bevind ‘n Christen homself in ‘n tweestryd waarin die vlees en die Gees teenoor mekaar staan. Dit weerhou hom daarvan om die Here heelhartig en met oorgawe te dien, omdat hy by herhaling die Heilige Gees deur sy vleeslike gedrag bedroef en teëstaan. Só ‘n persoon wandel nie deur die Gees nie, maar deur die vlees.

Die Bybel spreek hierdie probleem pertinent aan en sê ook in baie duidelike taal wat die oplossing daarvoor is:

“…as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie. Laat elkeen wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het. Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Ef. 4:21-32).

‘n Leerstelling wat die grondslag vir herlewing in die kerkgeskiedenis van die 18de en 19de eeue was, is dié van heiligmaking. In ons tyd ontbreek die ervaring van heiligheid, oorwinning en ware dissipelskap in die meeste Christene se lewens. Weens onkunde, laksheid of misleiding ontwyk die seën van die volheidslewe die grootste deel van die eindtydse kerk. Talle moderne kerke het in oppervlakkigheid, teologiese dwalings, vleeslikheid en wêreldgesindheid verval omdat hulle nie deur die Gees van God wandel nie.

Omdat baie predikante, teoloë en belydende lidmate nie Geesvervuld is nie, weet hulle nie wat dit is om geestelik op te groei, onder die leiding van die Heilige Gees Bybelstudie te doen en in die dieper dinge van God se Woord onderrig te word nie (1 Kor. 2:10). Baie van hulle berus by hierdie toestand van vleeslikheid en geestelike onvolwassenheid, terwyl andere weer hulle gebreke en tekortkomings probeer aanvul deur valse herlewings te soek wat op tekens en wonderwerke gebaseer is (die ervaringsteologie).

‘n Christen wat van wedergeboorte kan getuig (inisiële heiligmaking), moet besef dat dit net die begin is van ‘n pad wat na geestelike volwassenheid, insig en diensbaarheid moet lei. Sulke mense moet hulle beywer om in kennis en genade toe te neem sodat hulle geestelik volkome toegerus kan wees: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak…” (1 Thess. 5:23).

Uit die aangehaalde skrifgedeelte (Ef. 4:21-32) is dit baie duidelik dat ‘n Christen die oue mens moet aflê. Dit behels die verloëning of kruisiging van die vlees en sy sondige gewoontes en begeerlikhede. Verskeie werke van die vlees word hier genoem, soos leuens, woede, bitterheid, vuil taal en diefstal. In die volgende hoofstuk word dronkenskap ook bygevoeg (Ef. 5:18). ‘n Persoon wat homself hieraan skuldig maak, bedroef die Heilige Gees en kan uit die aard van die saak nie ‘n Geesbeheerde lewe lei nie. Die opdrag is egter om die hindernis van die vlees op grond van die Here Jesus se kruisdood af te lê. In die plek daarvan moet ons met ‘n lewe van heiligheid en godsvrug beklee word, en daadwerklik daarin tot volwassenheid opgroei.

Die Gees en die vlees

Romeine 8:1 sê dat ons nie deur die vlees moet wandel nie, maar deur die Gees. Om dit te kan doen, behels meer as ‘n blote oorskakeling van ‘n vleeslike na ‘n geestelike gedragspatroon. Die oue mens, wat in beginsel reeds gekruisig is, moet ook prakties afgelê word sodat ons met die nuwe mens beklee kan word. As ons dit nie doen nie, behou die vlees sy heerskappy en staan vierkantig in ons pad “omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom. 8:7). Dit is teen sy natuur om die Gees se gesag te aanvaar.

“As julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe!” (Rom. 8:13).

Daar is geen sprake daarvan dat die vlees mak gemaak, of dalk net geïgnoreer of onderdruk kan word nie. Omdat die oue mens onrehabiliteerbaar sleg is, sê die Bybel, móét hy dood: “…aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie” (Rom. 6:6). Paulus sê hy roem in die kruis van die Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir hom gekruisig is en hy vir die wêreld (Gal. 6:14). Christus het nie net vir Paulus gesterf nie; Paulus moes ook vir die sondige wêreld sterf (Rom. 6:6,11).

Volkome heiligmaking

Ons moet duidelik verstaan dat by die stap van bekering ons sonde vergewe word (regverdigmaking) én dat die nuwe lewe van die Here Jesus deur die wedergeboorte aan ons geskenk word (inisiële heiligmaking). Die ervaring van volkome heiligmaking, of hartsreiniging, kom daarby in dat ons met die krag van die Heilige Gees beklee word om die geregtigheid van Christus ‘n sigbare werklikheid in ons lewens te maak. Hiervoor is die aktiewe samewerking en gehoorsaamheid van die kind van die Here nodig, want:

  • Ek moet by ‘n punt kom waar ek myself ook in my verstand en gemoed dood reken vir die sonde (Rom. 6:11). Ek moet dus ophou om in die sondes van die ou lewe te wandel en geheel en al daarmee breek. Dit beteken dat ek die werke van die vlees moet aflê. Hoewel ek reeds vergewe is en in beginsel saam met Christus gekruisig is (toegerekende geregtigheid, of inisiële heiligheid), moet ek nou doelbewus met Hom saamgroei deur die gelykvormigheid aan sy dood. Ek moet ‘n oorgawe maak waarna ek saam met Paulus sal kan sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék [die ou, eie-ek] leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal. 2:20).
  • Ek moet die volle beheer van my lewe aan die Heilige Gees oorgee. Deur in die nuwe lewe met Hóm saam te werk, vereis dat ek deur die Gees die werke van die vlees sal doodmaak. As ek deur die Gees wandel sal ek nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie. Hy sal my volkome heilig maak sodat ek deur my gees, siel en liggaam onberispelik kan wandel (1 Thess. 5:23-24). Dan kan die sonde oor my nie heers nie.
  • By die ondervinding van heiligmaking, wat ‘n volle oorgawe behels, moet die nuwe lewe wat by my bekering al begin het, sigbaar en prakties begin uitwerk. Ek moet my daarmee beklee en daarin opgaan. Alle struikelblokke moet oorwin en uit die weg geruim word. Toegerekende heiligheid moet ervaarde heiligheid word, met ander woorde innerlike heiligheid moet daadwerklik in uiterlike heiligheid oorgaan. ‘n Heilige temperament is nie genoeg nie – dit móét ook in ‘n heilige lewenswandel sigbaar word. Die nuwe lewensbeginsels moet deur geloof, gebed, getuienis, volharding en selfverloëning versterk word.

Ons roem vir die volle oorwinning oor die Adamiese sonde-natuur is in die kruis van die Here Jesus geleë. Die bloed van Christus reinig my van alle sonde, maar sy kruisdood verlos my ook van daardie ou, sonde-geneigde natuur. Ek moet só met sy kruisdood identifiseer dat die oorwinningskrag daarvan daagliks in my lewe werksaam is en ek as ‘n geestelike lewenswyse die kruis van selfverloëning sal opneem waaraan ek vir die wêreld en die wêreld vir my gekruisig word. In die plek van die ou natuur moet ek met die natuur van die nuwe Adam beklee word, wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

Baie Christene maak nie erns met die opdrag tot heiligmaking nie. Hulle skuif die morele verantwoordelikheid vir ‘n heilige lewe van hulle af weg, en sê dat die Here Jesus namens hulle daaraan voldoen het. Christus het wél namens jou die straf vir die sonde gedra om jou tot ‘n nuwe mens te kan herskep. Deur jou aktiewe toewyding aan Hom moet jy egter heilig leef, vrug dra en tot volwassenheid opgroei. Die Here Jesus skenk aan jou deur die Heilige Gees die krag en genademiddels om dit te kán doen, maar Hy doen dit nie namens jou nie en onthef jou nie van jou verantwoordelikheid om heilig te leef nie!

Mense wat die verantwoordelikheid vir en opdrag tot heiligmaking van hulleself af wegskuif, maak daardeur implisiet vrede met hulle “sondetjies” en gaan met ‘n lewe van wêreldgesindheid voort. Paulus het goeie raad vir hulle:

  • “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Rom. 6:1-2).
  • “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).
  • “Dit is die wil van God: julle heiligmaking… Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3,7-8).

Kragteloosheid

Deur te versuim om aan die opdrag tot heiligmaking te voldoen, ontneem ‘n Christen homself die beloofde krag tot oorwinning, diensbaarheid en geestelike groei. Hy minag daardeur die belofte van die Here Jesus aan sy geredde volgelinge, naamlik dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom. Hulle moes hulself ondersoek, toewy en in ernstige gebed op hierdie belofte wag totdat hulle dit ontvang het. Het jy dit al gedoen en die toerusting met krag uit die hoogte ontvang? Sonder dit wag daar vir jou die swakheid en geestelike neerlae wat vir Petrus voor Pinksterdag geteister het. Hy het ook tot sy groot droefheid voor dié aanslae geswig.

Die Here se opdrag in die Bybel is: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16). Dit sluit alle aspekte van ons bestaan in: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Hoewel heiligmaking ‘n proses is, het dit ‘n beginpunt by die stap van volle oorgawe.

Christene wat nie dié saak ernstig opneem nie, leef onder die oorheersing deur die swakhede van hulle ou lewe voort, val dadelik weer onder die mag daarvan, en bevind hulleself in die vleeslike toestand van die gemeente van die Korinthiërs. Hulle was klein kindertjies in Christus wat deur geestelike kragteloosheid en onvolwassenheid gekenmerk is, en deur sondige gesindhede soos twis, jaloersheid en tweedrag oorheers is (1 Kor. 3:1-3). Dit is ‘n sekere resep vir geestelike rampspoed, daarom waarsku Paulus hulle baie ernstig oor hulle sonde en onkunde met betrekking tot heiligmaking:

“Weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:19-20).

Dit is ‘n baie algemene verskynsel vandag dat mense by evangelisasiedienste tot bekering kom, maar ná ‘n ruk val die meeste van hulle weer terug in die ou lewe. Tot ‘n groot mate is dit die skuld van predikers en kerke wat nie ‘n duidelike leer oor heiligmaking verkondig nie. Die groot herlewingsprediker, Charles Finney, het die volgende oor hierdie ernstige probleem gesê:

“Dit is duidelik waarom daar so baie gelowiges is wat terugval – hulle kry nie tydige en behoorlike onderrig oor heiligmaking en dissipelskap nie. Om behoorlik te kan wees, moet sulke onderrig onder die salwing van die Heilige Gees aangebied word, sodat mense met krag uit die hoogte beklee kan word (Luk. 24:49). Dit is die enigste manier om met Christus vervul te word deur sy Gees, en doeltreffende diens in sy koninkryk te verrig.”

Wedergeboorte en ‘n lewe van heiligmaking loop hand aan hand. Dit is soos ‘n nuwe takkie wat in ‘n ou boom ingeënt word. Die nuwe lewe kan nie gedy as die ou takke nie teruggesnoei word sodat die lewensap na die nuwe loot gevoer word nie. Uit die gelykenis van die wynstok is dit ook duidelik dat die loot skoongemaak moet word sodat dit meer vrug kan dra. ‘n Loot wat nie vrug dra nie, word afgekap en verbrand. Geloof sonder werke is dood. ‘n Dooie geloof kan ‘n mens tog nie red nie! ‘n Christen wat nie heiligmaking najaag en vrugte dra wat by die bekering pas nie, is soos ‘n onvrugbare loot wat gevaar loop om afgekap te word omdat dit nie aan sy doel beantwoord nie.

Ontwaakte sondaars

Baie naamchristene in kerke kom nooit by die stap van heiligmaking uit nie omdat hulle nog nie werklik gered is nie. Dit is soos die saad wat op die vlak grond of tussen die dorings beland het. Daar is nooit enige vrug nie. Hierdie naamchristene is soos die ontwaakte maar ongeredde mens van Romeine 7. Hulle het wel die woord van die Here gehoor en wil ook graag daaraan voldoen. Soos die oppervlakkige hoorders van die saad in die vlak grond, neem hulle die boodskap met blydskap aan. Dit is egter net ‘n emosionele reaksie en ‘n kopbekering, en by die eerste versoeking val hulle heeltemal terug. Hulle beskou hulleself as Christene, maar tot hulle eie ondergang moet hulle erken: “Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde… Die goeie wat ek wil, doen ek [voortdurend] nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek [voortdurend]” (Rom. 7:14,19).

Romeine 7 is glad nie ‘n beskrywing van ware Christenskap nie. Paulus verwys hier terug na sy lewe as wetgeleerde voor sy bekering. Die wet het wel die kennis van die sonde gebring, maar kon nie die mag van die inwonende sonde breek nie. Nogtans het die wet ‘n positiewe rol gespeel omdat dit die kennis van die sonde gebring het, dus is dit ‘n tugmeester na Christus toe. Paulus sê: “Ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie” (Rom. 7:7). Deur die kennis van die wet ontwaak die sondaar en kom tot die kennis van sy sonde en verlorenheid.

Net ‘n ontwaakte sondaar kan in sy nood uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Rom. 7:24-25). Hy moet grondig tot bekering kom en uit die dood opstaan sodat Christus oor hom kan skyn (Ef. 5:14). Hierna sal hy met die krisis van die volle oorgawe gekonfronteer word en besef dat sy vleeslike natuur afgelê moet word, sodat die opstandingslewe van Christus deur die krag van die Heilige Gees ‘n sigbare werklikheid in sy lewe kan word.

Die eerste werk ná sy bekering moet wees dat hy duidelik van sy nuwe lewe getuig, want “met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding” (Rom. 10:10). Die eerste belydenis met ons mond is wanneer ons ons sondes teenoor die Here bely om vergifnis daarvan te kry en Hom as Verlosser aan te neem (1 Joh. 1:9). Hierna moet ons teenoor ander mense van ons verlossing getuig. As ‘n persoon dit nie met vrymoedigheid kan doen nie, moet hy soek na ‘n aanraking met krag uit die hoogte. Die belofte van die Here Jesus is: “Julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees…” (Hand. 1:8).

Die volle raad van God

Prediker, verkondig die volle raad van God en sien toe dat die kinders van God deur hulle heiligmaking, geestelike groei en skrifkennis volkome is, vir elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:17). Hiervoor is ‘n volle oorgawe tot heiligmaking en diensbaarheid onontbeerlik. Voordat dit sal gebeur, moet heiligheidsprediking weer tot sy reg kom. Dit kan alleen gedoen word deur manne wat self die tweede genadewerk van heiligmaking deelagtig geword het. Andrew Murray het gesê: “Dit is in die intieme, persoonlike omgang met God self dat ons heilig word.” Dit is ‘n saak van heelhartige toewyding, wat só deur hierdie man van God verduidelik word:

“Baie Christene bid om die Heilige Gees, maar met ‘n sekere voorbehoud: hulle wil nog in baie dinge hulle eie sin deurvoer. O Christen, wanneer u bid, vertrou uself geheel en al die hele dag aan die leiding van die Heilige Gees toe. As u dit opreg en gewilliglik doen, kan u in die geloof daarvan seker wees dat die Gees u volkome vir sy rekening sal neem, en u die hele dag lank sal bewaar, heilig en vernuwe. Moenie God met ‘n halwe hart probeer dien nie. Bid in die verligting van die Gees dat u die moontlikheid en seën mag begryp van ‘n lewe wat volkome aan sy diens oorgegee is.”

Dit is opvallend hoe baie boeke daar in die herlewingstyd oor die onderwerp van heiligmaking en ‘n volkome toewyding aan die Here geskryf is. Predikers het self heilig geleef, hulle was nederige manne van gebed en geloof, daarom het hulle die noodsaaklikheid van heiligheid vir alle Christene besef. In ons tyd ontbreek dit egter grootliks. In die plek daarvan word ‘n dooie vormgodsdiens aangebied, of ervarings deur talle misleidende tekens en wonderwerke. Die groot werk van die Heilige Gees om mense van sonde te oortuig, word al hoe meer oor die hoof gesien en in baie gevalle totaal verswyg.

Daar is ‘n moderne geslag predikers wat só deur positiewe denke beïnvloed is dat hulle selfs weier om verlore mense as sondaars te bestempel en ook oor sonde in vleeslike Christene se lewens te preek. Hulle preek net oor goeie verhoudings en ‘n humanistiese naasteliefde sonder om die struikelblok van ‘n onheilige, vleeslike natuur in mense se lewens te identifiseer en hulle by die kruis uit te bring.

As jy ‘n ernstige soeker na die volheid van God is, sal Hy Hom deur jou laat vind, jou uit genade red, aan jou oorwinning oor die ou lewe gee en jou ook met sy Heilige Gees vervul.

 

5. Oorwinning Oor Swakhede: Die Proses van Heiligmaking

Nadat ‘n Christen ‘n volle oorgawe gemaak het om oorwinning oor die vlees te verkry en met die Heilige Gees vervul te word, volg daar ‘n lewenslange proses van voortgesette oorwinning oor menslike swakhede. Alle Christene, ook diegene wat Geesvervuld is, is voortdurend aan versoekings, geestelike misleiding en menslike swakhede blootgestel, en moet waak om nie as gevolg daarvan te struikel nie.

Die Here het medelye met swakhede, omdat dit deel is van menswees. Hy het egter nie medelye met sonde nie – slegs ‘n oplossing daarvoor, naamlik verlossing en reiniging deur die kosbare bloed van die Lam. Daar moet ernstig gewaak word dat ons persoonlike swakhede nie tot sonde aanleiding gee nie.

“Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:14-16).

Dit is in verband met die identifisering en hantering van menslike swakhede belangrik om bewus te wees van die feit dat daar drie betekenisse vir die begrip “vlees” in die Bybel is:

1.    Die sondige natuur. Die ongeredde [natuurlike] mens is “vleeslik, verkoop onder die sonde” (Rom. 7:14). In hierdie verband verwys die term “vlees” na die sondige lewensbeginsel wat ná die sondeval deel van alle mense geword het. Dit is ons Adamiese natuur wat altyd net na die sonde neig. Hiervan word ons in beginsel by die wedergeboorte verlos en met die nuwe natuur van Christus beklee: “Die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig” (Gal. 5:24). Ons word daarna in die praktyk voor die uitdaging gestel om volgens die Gees (die lewensbeginsels van die nuwe mens) te wandel en nie volgens die vlees (die lewensbeginsels van die oue mens) nie. Dit is heiligmaking.

2.    Die menslike liggaam, ongeag die aard van die geestelike beheer waaronder dit is. As Christen moet die lewe van Jesus in my sterflike vlees [liggaam] geopenbaar word (2 Kor. 4:11). Paulus sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék [die ou, sondige Paulus] leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe [in my menslike liggaam] leef ek deur die geloof in die Seun van God” (Gal. 2:20). Die sondige natuur van Paulus was dus dood, maar andersins het hy self nog as die nuwe mens in sy eie liggaam gewoon. Christene wandel ook in die vlees [liggaamlik] al het hulle hul ou, vleeslike natuur afgesterf: “Hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie” (2 Kor. 10:3). God is ook in die vlees geopenbaar (1 Tim. 3:16), bedoelende dat die Here Jesus ‘n menslike liggaam gehad het toe Hy “vlees geword” het (Joh. 1:14). Hy het egter nooit ‘n vleeslike natuur gehad nie.

3.    Menslike swakhede. Paulus sê: “Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees...” (Rom. 6:19). Hier praat hy nie van die voortdurende en onafgebroke sonde-geneigdheid van die ou, vleeslike natuur nie, maar van swakhede van die vlees wat ook deur die geredde en Geesvervulde kinders van die Here ervaar word. As gevolg hiervan sit baie van hulle nog hulle ou, sondige gewoontes voort en jaag nie heiligmaking na nie. Sommige van hierdie swakhede is die gevolg van die sondeval wat die mens in verskeie opsigte skeef getrek het, en andere is bloot net deel van mens wees. Swakhede moet in ‘n ernstige lig beskou word omdat dit die oorsaak van sonde kan wees. Een van die mens se ernstige swakhede is dat sy liggaam hom blootstel aan verskeie soorte versoekings. Hy is ook onvolkome in sy kennis, beperk in sy kragte en traag in sy ywer. Hy kan siek word, moedeloos raak, smarte ly en pyn verduur. Dit geld vir almal.

Omdat die Here Jesus ‘n menslike liggaam gehad het, kon Hy versoek word en ook pyn en lyding ervaar. Hy was ‘n man van smarte en bekend met krankheid. Hy was egter ‘n volmaakte mens omdat Hy nooit ‘n sonde-geneigde natuur gehad het of aan die gevolge daarvan gely het nie. Hebreërs 7:28 sê: “Want die wet stel as hoëpriesters aan mense met swakhede, maar die woord van die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan wat vir ewig volmaak is.” Juis hierom was Hy ‘n volmaakte offer vir ons sondes en swakhede. Omdat Hy self onder versoekings gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb. 2: 18). Hy is ‘n Hoëpriester wat medelye met ons swakhede het. Uit genade vergewe Hy ons sondes wat uit swakheid begaan is. Ons moet egter die goeie stryd van die geloof stry en oorwinning hieroor kry: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14).

Die volgende is die algemeenste swakhede waarvan die Here ons voortdurend deur die krag van die Heilige Gees wil help om te oorwin, sodat dit nie ‘n oorsaak tot mislukking en sonde in ons lewe word nie:

Versoekings

Hoewel ‘n Geesvervulde persoon ‘n nuwe natuur het wat uit God gebore is, leef hy in ‘n gebrekkige menslike liggaam wat vyf poorte na die wêreld het. Dit is jou vyf sintuie wat aan jou ‘n bewussyn van die wêreld verleen, en waardeur die bose wêreld jou ook probeer beïnvloed en by sondes intrek. Jy kan sien, hoor, voel, ruik en smaak. Omdat versoekings op jou sintuie gerig word, moet jy streng beheer daaroor uitoefen. Dit is nie sonde om versoek te word nie – Jesus is self versoek – maar jy moet nie aan die versoekings toegee nie en dit oorwin. Hebreërs 2:18 sê van Jesus: Omdat Hy “self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.”

Die mag van die gewoonte

Benewens die genoemde sintuie het jou liggaam ook ledemate soos jou hande, voete, verstand en mond waarmee jy werke kan doen. Met jou liggaamlike krag en vermoëns kan jy óf sonde doen óf goeie dinge doen en die Here dien. Weens onkunde, onverskilligheid en die mag van die gewoonte, hou baie Christene nog aan om sekere sondes te doen. Terselfdertyd laat hulle ná om die Here met hulle hele lewe en al hulle kragte te dien. Aan sulke misleide en onverskillige mense sê die apostel Paulus: “Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Rom. 6:2). Daarna gee hy ook die oplossing:

“So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat dan die sonde in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie” (Rom. 6:11-14).

Vergeetagtigheid

‘n Algemene menslike swakheid is vergeetagtigheid. Israel is vroeg in hulle bestaan al hierteen gewaarsku. Moses het vir hulle gesê: “Neem jou dan in ag dat jy die Here nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie” (Deut. 6:12). “Wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak” (Deut. 4:9). Tog hét die volk die Here vergeet. Eeue later het Jesaja vir hulle gesê: “Jy het die God van jou heil vergeet en nie gedink aan die rots wat jou toevlug was nie. Daarom lê jy lieflike tuine aan en beplant dit met uitlandse wingerdstokke” (Jes. 17:10). In Jeremia 2:32 sê die Here: “My volk het My vergeet, dae sonder getal.” Hulle het die rug op Hom gedraai en geleef asof Hy nie bestaan nie.

Vergeetagtigheid is ook ‘n Nuwe Testamentiese probleem waarteen Jakobus ons in sy brief waarsku:

“Want as iemand ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n dader nie, dié is soos ‘n man wat sy natuurlike gesig in ‘n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen” (Jak. 1:23-25).

Petrus sê dat ‘n persoon wat nie heilig leef nie – iemand wat nie by sy geloof ywer, kennis, selfbeheersing, godsvrug en broederliefde voeg en ook hierin toeneem nie – is “blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet” (2 Pet. 1:9). Hy het heeltemal vergeet van die fondament wat tydens bekering in sy lewe gelê is, en bou glad nie onder die leiding van die Heilige Gees daarop voort nie. Só ‘n persoon wandel nie na die Gees nie, maar na die vlees. Hy gaan dus nie geestelik vooruit nie, maar agteruit.

Traagheid en onvrugbaarheid

Luiheid, die ontduiking van pligte en die hou van ‘n lae profiel wanneer jy in werklikheid jou kant móét bring, is ‘n tipiese menslike swakheid waaroor ons oorwinning moet kry. Paulus sê:

“Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid… so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking… Nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe” (Rom. 6:19,22).

Paulus het ‘n sterk veldtog teen die swakhede van sy vlees, soos luiheid en onvrugbaarheid, gevoer: “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Waarom is mens verwerplik as jy nie die Here dien nie en net nominaal in Hom glo? Die Here moet ons eers herskep voordat ons werktuie in sy reddende regterhand kan wees. Daarna moet ons deur heiligmaking bruikbare, rein en gewillige kanale word waardeur sy Heilige Gees kan vloei. Anders kan Hy ons nie gebruik om sy verhewe doel op aarde te bereik nie.

Besoedeling van die gees, die siel én die vlees

Omdat ons ín die wêreld is, bring kontak met die wêreld en al sy booshede noodwendig besoedeling mee waarvan ons voortdurend gereinig moet word. As ons iets onheiligs sien, hoor of beleef, besoedel dit ons. Indien ons onsself doelbewus daaraan blootstel of aan dit deelneem, dan sondig ons. Dit moet dadelik bely en laat staan word, anders verloor ons ons geestelike oordeelsvermoë, word verblind in ons gemoed en ontvang die krag van die dwaling om die leuen te glo.

Paulus sê: “Laat ons ons van alle besoedeling van die gees en die vlees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Besoedeling van die gees het met geestelike dwalings te doen waardeur ‘n mens mislei en verwar kan word. Voorbeelde hiervan is valse godsdienste en sektariese leerstellings, insluitende die mistiese kragte van die Nuwe Era Beweging. Dit sluit buite-Bybelse openbarings in, soos profesieë deur selfaangestelde profete en profetesse, drome, visioene, mistiese genesingspraktyke, hipnotiese regressie en buitesintuiglike waarneming. Die geestelike en sensuele ervarings wat deel van die wêreldwye misleiding deur die val in die gees- en lag in die gees-beweging is, word deur Satan in sy geestelike aanslag op die Christendom gebruik om baie mense op ‘n dwaalweg te laat beland.

Besoedeling van die vlees het met liggaamlike sondes te doen wat as immorele dade beskryf kan word. Vermy alle deelgenootskap met die sonde. Dit begin dikwels in gesprekke met ‘n sondige strekking. “Moenie dwaal nie, slegte gesprekke bederf goeie sedes” (1 Kor. 15: 33). Sulke gesprekke en dade kan jou hele lewensloop besmet. Baie mense is onverskillig en stel hulleself moedswillig aan besoedeling bloot deur byvoorbeeld pornografiese boeke te lees en na vuil video’s te kyk. Dit kan na owerspel en seksuele onreinheid lei, asook drankgebruik en gewelddadigheid. Sodoende word hulle weer slawe van die sonde en deurboor hulleself met baie smarte.

Hoogmoed

Dit is ‘n algemene neiging by mense om belangrik te voel, na erkenning te soek en in aansien by die wêreld te wil wees. Die Bybel het goeie raad oor hoe om dié neiging te hanteer: “Elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” (Matt. 20:27-28). Ons moet nederig, diensbaar, verdraagsaam en liefdevol wees.

“Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie” (Gal. 5:26). As ons met hierdie houding voortgaan, verbeur ons die seën van die Here: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jak. 4:6). Wil jy toeneem in genade? Moet dan nie jouself verhef nie. “Hý moet meer word, maar ék minder” (Joh. 3:30).

Emosionele swakhede

Die mens is ‘n emosionele wese wat wisselende emosies beleef. Baie swakhede in gedrag en houdings kan hieruit spruit as jy nie ‘n Geesbeheerde temperament het nie. Jy kan in moedeloosheid en belangeloosheid verval. Jy kan ook deur driftige en ongetemde emosies op sleeptou geneem word. Waak altyd daarteen dat jou emosies hand uitruk en na sonde lei: “Word toornig en moenie sondig nie” (Ef. 4:26). Moet jou ook nie aan die emosie van vrees oorgee nie: “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1:7). Een van die vrugte van die Gees is selfbeheersing, en dit gee aan jou volle beheer oor enige emosie.

Wat ook al jou persoonlikheidstipe met sy kenmerkende sterk en swak punte mag wees, deur die krag van die Heilige Gees kan jy jou emosionele swakhede oorkom en jou met goddelike gesindhede beklee. Omdat emosies so veranderlik is, moet hulle altyd ‘n sekondêre rol in jou geloofslewe vervul. Gevoelens moet nooit die oorhand kry nie.

‘n Gebrek aan liefde en onderskeidingsvermoë

Paulus bid die Christene liefde, wysheid en onderskeidingsvermoë toe: “En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ‘n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus” (Fil. 1:9-10).

Vir die Efésiërs sê hy dat hulle uit hul toestand van geestelike swakheid en onvolwassenheid moet opgroei tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat hulle nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering (Ef. 4:13-14). Met ‘n groei in heiligmaking kom daar ook dieper insig in hierdie dinge.

‘n Onvermoë om te kan preek en getuig

Die volgende aanklag word aan die meeste Christene gerig:

“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spyse is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van bekering uit dooie werke” (Heb. 5:12–6:1).

Die Heilige Gees stel ons in staat om op te groei en ook getuies vir Christus te wees. Hy versterk ons met krag uit die hoogte, onderrig ons uit die Woord en lei ons in die hele waarheid. Hoe ver het jy in die leerskool van diensbaarheid gevorder?

Onkunde om reg te kan bid

“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge” (Rom. 8:26). Ook skep die Heilige Gees die oortuigings in ons harte waarvoor ons moet bid, en gee aan ons die vermoë en vrymoedigheid om in die openbaar te kan bid. ‘n Heilige lewe is ‘n lewe van gebed. Hierin moet jy toeneem, want geestelike bankrotskap staan tot ‘n groot mate met biddeloosheid in verband (Jak. 4:2). Vra die Here om jou met die Gees van gebed en smeking te vervul sodat jy by elke geleentheid kan bid in die Gees (Ef. 6:18).

Vleeslike swakheid om te kan waak

“So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:40-41). Hoe dikwels faal ons nie as gevolg van vleeslike swakheid om ons goeie voornemens uit te voer nie! Ons besluit byvoorbeeld om vroeg op te staan en te bid, maar dan is dit té lekker om nog ‘n bietjie te slaap en te sluimer. Ons moet gedurigdeur bid en daarin waak met danksegging. Dissiplineer jouself en koop die tyd uit om die Here te dien en te aanbid.

Moegheid

Dikwels word ons moeg vir al die werk wat ons moet doen, of sien bloot net op teen al die moeite wat dit vir ons meebring. Paulus vermaan die Galásiërs: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (Gal. 6:9). Johannes sluit hierby aan: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang” (2 Joh. 1:8). Daar moet besondere volharding op hierdie terrein van ons geestelike lewe beoefen word, sodat ons nie agter ons swak gesondheid of beperkte krag sal skuil om niks te doen nie.

Die probleem is gewoonlik dat as jy jou godsdienstige pligte om een of ander rede verwaarloos of ter syde skuif, dan begin jy om in die plek daarvan die wêreld te dien. Hou dus ten spyte van moegheid of moeite aan om die Here te dien en die werk te doen wat Hy aan jou toevertrou het. Hy bemoedig jou só:

“Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matt. 24:45-47).

Lyding en siekte

Paulus het die volgende oor liggaamlike lyding gesê: “…[daar] is my ‘n doring in die vlees gegee dat ek my nie sou verhef nie… En [die Here] het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring… Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk” (2 Kor. 12:7-10).

Baie mense dink dit is sonde om swaar te kry, te ly of siek te wees. Ons lees egter dat Jesus ‘n man van smarte was, bekend met krankheid. Dit is waarom Hy medelye met ons menslike swakhede kan hê. Omdat Hy aan ons menslikheid gelyk geword het, het Hy ook gely. Hy is deur die Satan versoek, maar sonder sonde. Jesus neem soms die swakheid en teistering van ons liggaam weg, maar in baie gevalle gee Hy aan ons krag en vertroosting in ons swakheid en krankheid.

Paulus het drie keer vir verlossing en genesing van die doring in sy vlees gebid, maar dit nie verkry nie. Hy het egter die duidelike belofte van die Here gekry dat sy genade altyd vir Hom genoeg is, met ander woorde, dat Hy hom ten spyte van sy gebreke sal deurdra. Die krag van die Here word in ons swak liggame volbring, daarom weet ons dat die eer en roem vir dit wat bereik word, altyd net aan Hom toekom.

Moedeloosheid as gevolg van teëstand, vervolging en versoekings

“Julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:3-4).

Soos Elia, voel die kind van die Here soms moedeloos as gevolg van mense se verwerping en al die aanslae teen hom. Moet egter nie hieraan toegee, in depressie verval en vir jou probleme probeer weghardloop nie. Vertrou die Here om aan jou ‘n nuwe vervulling met krag uit die hoogte te gee en sit die stryd met ‘n vaste toewyding voort. Toe Elia gedink het dat hy alleen in ‘n geestelik afvallige en moreel verdorwe volk oorgebly het, het die Here gesê dat daar nog seweduisend was wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie (Rom. 11:4).

Ook in ons afvallige volk is daar ‘n relatief klein kerngroep wat aan die Here getrou bly en die goeie stryd van die geloof stry. Voeg jou by hierdie groep mense wat nie kompromiemakers is nie, en moenie dat die meerderheid vormgodsdienstiges wat ongehinderd met die stroom van sonde en ongeregtigheid afdryf, jou ontmoedig of tot passiwiteit beïnvloed nie. Staan onbeweeglik vas op die Rots Jesus Christus en laat jou nie van die hoop van die evangelie afbring nie (Kol. 1:23).

Konflik en onvergewensgesindheid

Dit is ‘n vleeslike swakheid en sonde om gedurig in stryd en konflik met ander betrokke te wees, en as gevolg daarvan verbitterd en onvergewensgesind te raak. Daardeur vernietig jy jouself geestelik en besoedel ook andere met wie jy in aanraking kom:

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Heb. 12:14-15).

Teruggevalle Christene is verbitterd teen alles en almal, dikwels ook teen die Here as gevolg van die teleurstellings, verliese en terugslae wat hulle gehad het. In gesprekke dra hulle hierdie verbittering op ander mense oor en trek hulle sodoende ook geestelik af. Ons sal moet leer om ons omstandighede te aanvaar, moeilik soos wat dit ook al mag wees. Kry oorwinning oor jou probleme, vergewe andere wat jou te na gekom het, en glo dat die Here jou sal deurdra. Dit is ‘n toonbeeld van innerlike krag en heiligheid as jy onder omstandighede soos dié steeds onbeweeglik op die Rots kan bly staan.

Word sterk in die Here

Ons opdrag is om nie deur ons menslike swakhede en tekortkomings afgetrek te word nie, maar om ons met die nuwe mens te beklee en onder alle omstandighede oorwinnend in Christus te leef. Ons het verskeie beloftes en opdragte oor geestelike versterking:

  • “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8).
  • “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11).
  • Aan die dissipels is gesê: “Julle moet in Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:49).
  • “Julle moet toeneem in die genade en kennis van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18).

Die apostels het uitvoering aan hierdie opdragte gegee en is met die krag van die Heilige Gees beklee. Stéfanus was ook vol van geloof en krag. As ons nie in hierdie krag toeneem en oorwinnend en heilig leef nie, sal ons ons menslike swakhede ten prooi val en begin dwaal en sondig. Daar sal dan ook aan ons gesê kan word: “Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt. 22:29). Ons moet met die Here se krag bekragtig word, want sonder Hom kan ons niks doen nie. As Christene wat sterk in die Here is, moet ons dan die geestelik swakkeres help en bemoedig:

  • “En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie” (Rom. 15:1).
  • “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal. 6:1).
  • “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:12).
  • “Ons moet des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Heb. 2:1).
  • “Vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:13). Ons kán te midde van al die aanslae en versoekings meer as oorwinnaars in Christus wees!

Vanuit ‘n posisie van krag en vrymoedigheid in die Here moet ons dan uitbeweeg om die lig van Christus in ‘n donker wêreld te laat skyn. Kinders van die Here moet gemotiveer word om met groter volharding en geloof vir die redding van siele te bid. Hulle moet die Here ook vir herlewing onder die lou en wêreldgesinde Christene vertrou.

Die bediening van Bybelse vermaning en tug moet ook onder die leiding van God se Gees, en met die gesag wat die Here hiertoe aan ampsdraers in die kerk verleen, met groter fermheid beoefen word. Die opdrag is: “…weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie” (2 Tim. 4:2-3).

Daar moet ernstig gesprek gevoer word met die predikante en lidmate van Laodicese kerke wat in hulle selfvoldaanheid sê: “Ons is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie,” terwyl die Here sê dat hulle arm en blind en naak is, en dus geestelik beklaenswaardig (Op. 3:17-18). Dit is slegs die Heilige Gees van God wat ‘n mens bekwaam kan maak en krag gee om te midde van veel teëstand vir die waarheid uit te staan.

 

6. Vervulling met die Heilige Gees

Die leer oor heiligmaking word in die gereformeerde wêreld toenemend as sogenaamde metodisme, of werke-heiligheid, verwerp – tot só ‘n mate dat die tweede genadewerk van heiligmaking selfs geheel en al in baie kerke misken word. As hierdie leer nie in ere herstel en ernstig opgeneem word sonder om in die slaggate van die ervaringsteologie te beland nie, sal die kerk se geestelike armoede en kragteloosheid tot sy eie nadeel verder vererger.

Die volgende opdrag geld vir alle Christene:

“…word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).

Dit is noodsaaklik dat Christene die opdrag tot vervulling met die Heilige Gees ernstig sal opneem en uitvoering daaraan gee. Dit is vir ons nodig om presies te weet wat hiermee bedoel word, sodat ons die volle seën kan verkry. Die woord vervul beteken:

  • om onder die volle beheer van die Heilige Gees te wees;
  • om opgevul te wees soos wat ‘n houer tot bo toe heeltemal vol gemaak is;
  • om versadig te wees soos dors wat geles en ‘n hongerige wat volkome versadig is;
  • om deurdronge te wees op die terreine van jou gees, intellek, wil en emosies; en
  • om ‘n afgehandelde werk deelagtig te wees wat in elke opsig voltooi is.

Weens die veelvuldige bedieninge van die Heilige Gees kry ons die uitdruklike opdrag om met die Gees vervul te word. Dit beteken dat ons nie by die eerste werke van die Gees, naamlik sonde-oortuiging en wederbaring, moet berus nie, maar na die volheid van die Heilige Gees soek. Ons moet ‘n lewe lei wat volkome onder die beheer van die Heilige Gees is, sodat ons in ons hele lewenswandel heilig kan word. Dit beteken net een ding, en dit is dat ons ná ons bekering verder deur die Heilige Gees vervul, beheer en gebruik moet word. Dit is God se plan vir al sy kinders.

Die feit dat ‘n Christen reeds by sy bekering die Heilige Gees ontvang het, onthef hom nie van die duidelike opdrag om met die Gees vervul te word nie. Inteendeel, die opdrag tot vervulling met die Gees word nét aan kinders van die Here gegee wat almal reeds die Heilige Gees ontvang het! Hulle moet nou verder vervul word tot al die volheid van God. Die Vader, die Here Jesus én die Heilige Gees moet meer word in ons lewe, en ons minder (Joh. 3:30). In die vervulling met die Heilige Gees is daar twee duidelike aspekte waarop ons moet let, naamlik ‘n leegmaak- én ‘n volmaak-proses.

Die Here wil nie hê dat ons as vleeslike Christene beskryf moet word nie, maar as Geesvervulde Christene. ‘n Vleeslike gesindheid maak mens opgeblase en vol van jouself (Kol. 2:18). In elke opsig ondermyn dit jou geestelike lewe, daarom moet jy dit teëstaan: “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel” (1 Pet. 2:11). Net die Gees van God kan die mag van die vlees breek en self jou lewe beheer sodat die Here daardeur verheerlik sal word.

Hoewel die Heilige Gees ‘n Persoon is, kan Hy in ‘n meerdere of mindere mate beheer oor ons lewens uitoefen. By die vervulling stort Hy meer van sy gawes, liefde, krag en wysheid in ons harte uit. Daarna word sy teenwoordigheid in ‘n baie groter mate as tevore ervaar. Ons word nou met Hom deurdronge en Hy beheer en heilig elke aspek van ons lewe. Ons hele lewenswandel word verander en vernuwe.

Die vroeë Christelike kerk

Die wyse waarop die Heilige Gees aan die vroeë Christelike kerk gegee is, bevestig bo enige twyfel die feit dat ‘n Christen met sy/haar bekering nog nie met die Heilige Gees vervul is nie. Nadat die Gees ‘n persoon wederbaar het, het Hy hom ook vir diensbaarheid vervul en toegerus. Let op die volgende Nuwe Testamentiese uitsprake hieroor:

  • Die dissipels van Jesus was voor Pinksterdag gered en het reeds die Heilige Gees ontvang. In Johannes 20:21-22 lees ons: “Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees.”
  • Op Pinksterdag is die dissipels met die krag en vrymoedigheid van die Heilige Gees vervul om hulle opdrag as die getuies van Jesus in ‘n vyandige wêreld te kon uitvoer. Alhoewel die Gees reeds in hulle harte was, was daar op dié dag ‘n verdere aandoening met krag uit die hoogte: “Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit het. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees” (Hand. 2:3-4).
  • Ná hulle eerste vervulling is die dissipels wéér met die Heilige Gees vervul, wat daarop dui dat ons meerdere vervullings in ons lewe nodig het. In Handelinge 4:31 lees ons: “En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.” Die Here het hulle toe bemoedig en versterk.
  • Paulus is met die Heilige Gees vervul drie dae ná sy dramatiese bekering op die Damaskuspad. Ananias het in opdrag van die Here na Paulus gegaan, vir hom hande opgelê en gesê: “Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word” (Hand. 9:17). Op sy eerste sendingreis is Paulus en sommige van die dissipels tydens ‘n groot vervolging in Antiochië weer met die Heilige Gees vervul: “En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees” (Hand. 13:52).

‘n Besliste kwalifikasie

Dit is vir elke Christen ‘n noodsaaklike kwalifikasie om met die Heilige Gees vervul te word. Indien dit so was dat elke Christen outomaties met die Heilige Gees vervul is, dan sou daar nie so iets soos kragtelose, moedelose, biddelose, vleeslike, onseker en onvolwasse Christene gewees het nie. Dit is juis omdat nie almal Geesvervuld is nie, dat die Bybel so dikwels sê wie Geesvervuld is, en wat die kenmerke van ‘n Geesvervulde Christen is:

  • Oor Johannes die Doper se lewe lees ons: “Hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees” (Luk. 1:15; kyk ook Luk. 1:41 en 67 oor Johannes se ouers).
  • Petrus was vervul met die Heilige Gees toe hy op Pinksterdag gepreek het (Hand. 4:8).
  • Dit was ‘n vereiste vir die eerste diakens om Geesvervulde Christene te wees, wie se lewens hiervan getuig het: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid” (Hand. 6:3).
  • Stéfanus was ‘n man “vol van geloof en van die Heilige Gees” (Hand. 6:5; kyk ook 7:55).
  • Paulus bid die gemeente in Éfese toe om met krag versterk te word deur die Gees van God in die innerlike mens, sodat hulle “vervul kan word tot al die volheid van God” (Ef. 3:16,19). Hulle word ook vermaan om nie wyndrinkers te wees wat losbandig leef nie, maar om met die Gees vervul te word: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18). Keuses moet gemaak word.

God beloof sy Gees aan elkeen wat daarom bid (Luk. 11:13). Hy wat die leer van heiligmaking verwerp, “verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:8).

Krag uit die hoogte

Het jy jouself al afgesonder, verootmoedig en om die vervulling van die Pinksterbelofte gebid? Die Here Jesus het vir die dissipels gesê dat hulle in Jerusalem moes bly totdat hulle toegerus is met krag uit die hoogte (Luk. 24:49). Die gevolg hiervan, naamlik toerusting vir diens, is duidelik aan hulle uitgespel: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Daar is reeds op gewys dat die dissipels nie net een keer nie, maar meermale met die Heilige Gees vervul is.

Die herlewingsprediker, Charles Finney, getuig nie net van ‘n eerste vervulling met die Heilige Gees nie, maar ook van verdere vervullings. In sy boek, Krag uit die hoogte, skryf hy:

“Tot eer van die Here wil ek iets van my eie ondervinding hier meedeel. Kort ná my bekering het ek oorweldigende vervullings met die Heilige Gees beleef. Ek het só ‘n toerusting met krag ondervind dat slegs ‘n paar woorde wat ek gespreek het, tot mense se onmiddellike bekering gelei het. My woorde het die skerpte van ‘n swaard gehad en mense se harte soos pyle binnegedring. Dit het hulle weerstand afgebreek en talle het tot bekering gekom. Op ander tye was ek egter weer sonder hierdie krag, dan het my woorde geen indruk op mense gemaak wat tot hulle bekering gelei het nie. Ek het dan ‘n dag vir vas en gebed afgesonder en angstig na redes vir die oënskynlike leegheid gesoek. Nadat ek myself verootmoedig en om hulp geroep het, het die krag van die Heilige Gees met ‘n nuwe varsheid na my teruggekeer. Só het ek dit telkens in my lewe ondervind.”

Hierdie manne van God het geweet wanneer hulle geestelik nie meer op standaard met die Here was nie, en daadwerklik iets daaraan gedoen. Die Here het hulle weer met ‘n vars salwing ontmoet.

Waarom nuwe vervullings?

Die vraag word soms gevra waarom ons nuwe vervullings met die Heilige Gees nodig het? Dit is omdat ons verhouding met die Heilige Gees so geweldig sensitief is en ons Hom maklik kan bedroef. In Efésiërs 4:30 sê Paulus: “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie.” Wanneer ons aan versoekings en swakhede toegee, bedroef ons die Heilige Gees. Wanneer ons ons stiltetye nalaat, traag is om die Here te dien, en ook versuim om Hom te raadpleeg en te ken in al ons weë, bedroef ons Hom ook. Al hierdie dinge kan na geleidelike veragtering in die genade lei, met die gevolg dat ons ons salwing kan verloor. Ons verloor nie hiermee die Heilige Gees nie, maar ons bedroef Hom deur sy invloed in ons lewe te beperk. Hy onttrek dan sy krag en blydskap van ons af, asook die salwing wat ons gehad het.

By die eerste tekens dat dit besig is om te gebeur, moet ons dadelik ‘n tyd van selfondersoek en verootmoediging inruim en die saak met dieHere Here regstel. Dit moet gebeur nog voordat ons tot oneer van die Here begin leef, en ander mense duidelik bemerk dat ons besig is om geestelik af te koel. Dawid het in sy binnekamer gebid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! (Ps. 139: 23-24). Die Heilige Gees sal ons van ons sonde oortuig.

Indien kinders van die Here niks aan die proses van veragtering in die genade doen nie, val hulle geestelik terug in ‘n vleeslike toestand. Aan hulle sal dan ook, soos aan die Galásiërs, gesê kan word: “o, Onverstandige Galásiërs… nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees” (Gal. 3:1-3). Dit is selfs moontlik om ook die Heilige Gees in jou lewe uit te blus soos wat ‘n lamp uitgeblus word (1 Thess. 5:19). Dit is ‘n uiterste vorm van veragtering hierdie, maar dit kán nogtans gebeur. Moedswillige sondes waarmee mense volhard, kan sulke gevolge in hulle lewe hê.

Iemand wat in sonde geval het, moet dadelik sy/haar sondes bely en daarmee breek. Bid om die reiniging van jou sondes deur die bloed van die Lam, en bid ook vir ‘n nuwe vervulling met die Heilige Gees. Moenie met jou sonde voortgaan, afvallig en hard teenoor die Here word, en sodoende die Heilige Gees uitblus deur boosheid in jou hart toe te laat en te herberg nie (vgl. Heb. 3:12-13).

‘n Teruggevalle Christen moet die gebed van Dawid bid nadat hy of sy in sonde geval het:

“Was my, dat ek witter kan wees as sneeu… Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my oortredinge. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil en ondersteun my deur ‘n gewillige gees. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer” (Ps. 51:9-15).

Buitengewone effekte

Baie Christene huldig eensydige of verkeerde sienings en beland op dwaalweë omdat hulle met betrekking tot die vervulling met die Heilige Gees verwagtings koester oor tekens wat nie vir ons bedoel is nie. Die spesiale tekens wat met die uitstorting van die Heilige Gees gepaard gegaan het, was vir Israel, die nie-Joodse nasies en die vroeë Christelike kerk bedoel, en hierdie doel is in die eerste eeu bereik. Dr. John Rice, ‘n Amerikaanse herlewingsprediker wat vroeg in die vorige eeu onder leiding van die Heilige Gees duisende siele na die Here gelei het, sê die volgende hieroor:

Die klem in die Pinksterbelofte val op ‘n spesiale toerusting met krag, ‘n doop met die Gees, ‘n vervulling met die Gees, ‘n gawe van die Gees, ‘n uitstorting van die Gees. Al hierdie is Bybelse terme wat in die Nuwe Testament gebruik word. In Handelinge 2 lees ons verder:

“En toe die dag van die Pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees” (Hand. 2:1-2).

Die dissipels is nie aangesê om te wag vir die geluid van ‘n geweldige rukwind nie. Dit was ‘n toevallige wonderwerk en nie dit waarvoor hulle moes wag nie. So ook die tonge van vuur wat verdeel en op elkeen van hulle gaan sit het. Dit was nie die belofte wat aan hulle gegee is nie. Die belangrike saak is: “Hulle is almal vervul met die Heilige Gees.” Die volheid, die doping, die krag, die gawe, die toerusting met die krag van die Heilige Gees, is wat aan hulle beloof is.

By hierdie geleentheid het die dissipels in verskeie tale begin praat. Die volgende vers sê: “En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is” (Hand. 2:5). Daar was mense van 15 verskillende nasionaliteite, en elkeen van hulle het gehoor hoe die evangelie in sy eie taal verkondig word. Drie duisend van hulle is daardie dag gered.

Laat ons egter nie aan die toevallige, buitengewone sake dink en dit deel van die belofte maak nie. Niemand van ons het die reg om iets spesiaals van die rukwind of die tonge van vuur te maak nie. Dit is nie wat Jesus beloof het nie, en so ver ek weet is dit nie weer in Bybelse tye herhaal nie – in elk geval nie altyd nie. Ek gee nie om as mense dit ervaar nie, maar dit is nie aan ons beloof nie en ons moet dit ook nie verwag nie.

Dieselfde geld vir die gawe van tale. Niemand het die reg om ‘n beginselsaak te maak van die feit dat die mense in verskeie tale met die omstanders gepraat het nie. Dit is nie waaroor dit gaan nie, en dit is ook nie by die belofte van die Here Jesus ingesluit nie. Dit was ‘n buitengewone wonderwerk wat in daardie tyd plaasgevind het.

Die argument word soms geopper dat daar byvoorbeeld ‘n Sjinees kan wees wat nie Engels kan praat nie, en dat die Here dan die gawe aan ‘n persoon gee om die evangelie in die hoorder se eie taal te verkondig. Ek is glad nie hierteen gekant nie. As God aan jou die gawe gee om in Sjinees met die man te praat en hy kom daarna tot bekering, dan is dit Bybels reg en aanvaarbaar. Dit sal dan ‘n wonderwerk wees wat van die Here af kom. Ek is nie teen dit nie. Ek sê egter dat dit nie deel van die belofte oor die vervulling met die Heilige Gees is nie. Die saak waaroor dit op Pinksterdag gegaan het, is dat mense vervul is met die Heilige Gees, dat hulle die evangelie met vrymoedigheid verkondig het, en dat groot menigtes as gevolg daarvan tot bekering gekom het (einde van aanhaling).

Die wyse van vervulling

Die volgende opmerkings is ook deur dr. John Rice gemaak:

Om met die Heilige Gees vervul te word, is ‘n opdrag. Dit word nie aan jou eie oordeel oorgelaat of jy daaraan wil voldoen of nie. Elkeen wat nie met die Heilige Gees vervul is nie, is buite die wil van God. Só ‘n persoon is ongehoorsaam en leef ‘n onvrugbare lewe. Die rede waarom jy nie siele wen nie, is omdat jy ongehoorsaam is en nie daarna soek om die volheid van die Gees van God in jou lewe te hê nie.

Dit is ‘n aanklag teen die volk van God dat hulle nie Geesvervulde lewens lei nie. Julle verkeer in sondige ongehoorsaamheid solank as wat julle nie die krag van God in julle lewens het nie. Die skande en die sonde wat die duisende verloregaandes rondom julle na die verdoemenis laat voortspoed, is dat julle kerke het wat met alles vervul is behalwe die Heilige Gees. Dit is julle groot probleem.

Julle kinders gaan verlore omdat julle nie met die Heilige Gees vervul is nie. Julle praat met mense en dit maak geen verskil nie omdat julle nie met die Heilige Gees vervul is nie. Jaar ná jaar het die Sondagskoolonderwysers ongeredde kinders in hulle klasse wat nie gered word nie. Waarom? Omdat die onderwyser nie met die Heilige Gees vervul is nie. Julle eie kinders groei op na hulle jare van aanspreeklikheid, en julle wen hulle nie vir Christus nie. Waarom nie? Omdat julle nie met die Heilige Gees vervul is nie.

Mag die Here ook ons predikers vergeef. Ek is ten gunste van predikante en nie krities teenoor hulle nie, maar weet u wat is die probleem met ons predikante? Ons het omtrent alles in die lewe – ons het goeie opleiding, ons het universiteitsgrade, ons het goeie organisasies, ons het goeie toerusting, ons het goeie boeke en omtrent alles wat ons nodig het, behalwe één ding wat in ons lewens ontbreek: die krag van God!

Om met die Heilige Gees vervul te word, sal jou iets kos. Jy moet sterwe aan jouself en bereid wees om as niks gereken te word. Jy moet ook bereid wees om bespotting te verduur. Daar moet ‘n verlange en ‘n dors in jou hart na die seëninge van die Here wees. Hy het beloof om die dorstige te verkwik:

“Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge” (Jes. 44:3). Dors jou siel werklik na die Here en roep jy na Hom uit om jou te vervul? As jy nie ernstig hieroor is nie, sal jy nie die prys betaal nie. Jy sal nie lank genoeg bid nie. Jy sal ook nie bereid wees om die eer van mense te versaak om die krag van God te verkry nie.

Wil jy werklik met die Heilige Gees vervul wees? Indien wel, dan moet jy aan twee voorwaardes voldoen. Die een daarvan is gehoorsaamheid. Jy moet ‘n getroue navolger van Jesus wees en jouself vir die redding van siele gee. Petrus het gesê: “En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Hand. 5:32). Jy moet so gehoorsaam soos die apostels word. Hulle was bereid om vir die saak van die Here te sterf. Is jy ook bereid om jouself op die altaar te lê en as dood vir die wêreld en die sonde te reken sodat jy die Here in alles kan behaag? Dan sal Hy jou met sy Gees vervul.

Die tweede vereiste is om in gebed te wag op die Here. Jakobus sê: “Julle het nie, omdat julle nie bid nie” (Jak. 4:2). Volhardende gebed en smeking is nodig. Die dissipels het tien dae lank gebid, hulleself voor God ondersoek, hulle sondes bely, en op die belofte van die Heilige Gees gewag todat hulle dit verkry het. Hulle het in die geloof op die vervulling van die Here se belofte gewag en is almal toegerus met krag uit die hoogte.

Is jy vervul met die Heilige Gees? Ek wonder hoeveel mense is tevrede met die lewe wat hulle nou leef? Is jy tevrede om deur die lewe te gaan sonder om ooit ‘n siel vir die Here Jesus te wen? Mag die Here genade betoon aan dié lidmate wat net die kerkbanke warm sit, hulle bydraes gee, in die kerkkoor sing, op die kerkraad dien en Sondagskool hou. Bestaan Christenskap net uit dié dinge? Beslis nie! Wat die Here van jou verwag is om ‘n Geesvervulde sielewenner te wees met die krag van God wat op jou lewe rus.

Al die mensgemaakte werke en organisasies is ‘n gruwel vir die Here. Dit is strukture binne strukture en wiele wat draai en rammel soos klinkende metaal en luidende simbale. Wat gee die Here vir dié dinge om? Dit gaan Hom nie aan hoeveel organisasies en komitees jy in jou kerk het, hoeveel sustersbyeenkomste daar is, hoe groot die Sondagskool is of hoeveel geld daar per maand inkom nie. Dit is van geen belang vir Hom nie. As hierdie dinge nie op één doel ingestel is nie, naamlik om die krag van God te verkry sodat siele gered kan word, is die Here nie daaroor begaan nie.

Baie Christene dink hulle verpligting vir evangelisasie is afgehandel as hulle ‘n geldelike bydrae daarvoor gemaak het. Dink jy dit is al wat God van jou verwag? Geldelike bydraes moet sekerlik gemaak word, maar dit is net ‘n tipe, of teken, wat op jou liefde vir die saak van die Here dui. Dit is nie jou geld wat die Here wil wil hê nie, maar jou lewe – jou hart, jou hande en jou voete… Hy wil hê dat jy jouself moet offer op die altaar. Hy wil jou hart en lewe verander, dit salf en toerus sodat jy ‘n sielewenner kan word. (Bron: Fullness of the Spirit, deur dr. John Rice. Sword of the Lord Publishers).

Dood vir die sonde

Die Geesvervulde lewe is die opstandingslewe van Jesus Christus wat deur die Heilige Gees in ons siele uitgestort word. Voordat ons egter aan die Here Jesus se opstandingslewe gelykvormig kan word, moet ons eers aan sy dood gelykvormig word. “As ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding” (Rom. 6:5). Daar moet ‘n volkome identifikasie met die kruis van Christus in ons lewe wees, sodat ons ons nuwe posisie as dood vir sonde kan aanvaar (Rom. 6:11). Die Christen wat dit nie verstaan nie, dink altyd dat die sonde té sterk vir hom is, dat dit steeds mag oor hom het en dat hy dit soms moet gehoorsaam. Hy dink egter net so omdat hy nie weet dat hy, soos Christus, dood vir die sonde is nie.

Indien die gelowige nóg sondig, is dit omdat hy nie sy voorreg gebruik om te leef soos iemand wat dood vir die sonde is nie. As gevolg van onkunde, ‘n gebrek aan waaksaamheid, of ongeloof, vergeet hy die betekenis en krag van sy gelykvormigheid aan Christus se dood, en sondig dan weer. Indien hy egter ‘n vaste geloof het in wat sy deelname aan Christus se dood beteken, het hy deur die Heilige Gees die krag om sonde te oorkom. Hy verstaan duidelik dat daar nie gesê word “sonde is dood” nie. Nee, sonde is nie dood nie. Die sonde leef nog en werk deur die vlees; maar die gelowige self is vir die sonde dood en lewend vir God. Sonde kan dus nie vir ‘n enkele oomblik sonder die kind van die Here se toestemming mag oor hom hê nie. Indien hy sondig, is dit omdat hy homself daaraan onderwerp en dit toelaat om oor hom te heers.

Ons moet die leer oor heiligmaking uit die oogpunt van die Christus-gelykvormige lewe verstaan, waartoe almal van ons geroep is. Die lewe en sterwe van die Here Jesus was nie net ter wille van die versoening van ons sondes nie, maar ook as ‘n voorbeeld waaraan ons deur die krag van die Heilige Gees gelykvormig moet word:

“Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Pet. 2:21).

Jesus Christus is nie net ons Verlossing nie, maar ook ons Voorbeeld en Heiligmaking, wie se lewe in ons gestalte moet verkry. Baie min Christene is met die nastreef van ‘n lewe soos dié van die Here Jesus besig, en is daarom nie in die ware sin van die woord dissipels en navolgers van Hom nie. Ons moet deur die identifikasie met sy kruisdood vir die sonde sterf en ook met sy Heilige Gees vervul word sodat Hy ons met sy opstandingslewe kan beklee.

 

7. Volkome Heiligmaking

Volkome heiligmaking is een van die Bybelse terme vir ‘n tweede genadewerk. Die volle betekenis daarvan blyk uit die feit dat die mens se gees, siel én liggaam deur die krag van die Heilige Gees teen die aanslae van die Bose beskerm word, en ook vir die diens van die Here bruikbaar gemaak word. Dit stel ons in staat om meer as oorwinnaars in die stryd van die lewe te wees.

“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24).

Die drie basiese aspekte van die wese van die mens wat geheilig moet word, kan soos volg onderverdeel word:

Gees: Geloof, hoop en liefde.

Siel: Intellek, wil en emosies.

Liggaam: Sintuie, fisiologie en ledemate.

Die begrip volkome heiligmaking staan met reinheid, diensbaarheid én geestelike weerbaarheid in verband. Sonder ‘n noue en intieme wandel met die Here sal ‘n Christen nie oorwinnend leef en vinnige vordering in sy/haar geestelike lewe maak nie. Daar moet nie probeer word om geestelike probleme deur middel van sielkundige en ander metodes te oorwin nie. Die ware weg na oorwinning hang daarvan af of die Here deur die Heilige Gees volle beheer oor jou gees, siel en liggaam het. Wat van jóú verwag word om dié seën te verkry, is ‘n volle oorgawe. Dit is die geheim vir krag en oorwinning. Om dit na te laat, lei gewis na geestelike neerlae en veragtering in die genade.

Paulus noem al drie terreine van die wese van die mens as ter sake vir die goddelike werk van heiligmaking en bewaring teen die Bose, naamlik sy gees, sy siel én sy liggaam:

DIE GEES

Die geestelike lewe van ‘n Christen word deur geloof, hoop en liefde gekenmerk. ‘n Ongeredde persoon is uit God se oogpunt geestelik dood. Hy het wél ‘n gees, maar dit is dood as gevolg van sy oorgeërfde sondige natuur, en ook weens sy eie sondes en misdade. God se liefde is ook nog nie in sy hart uitgestort nie, daarom is hy sonder God en sonder hoop in die wêreld (Ef. 2:12).

Geloof

‘n Kind van die Here is geestelik lewendig omdat daar ‘n geloofsband tussen hom en die Here is. Dit vereis nie net ‘n verstandelike aanvaarding van Christus nie, maar ook ‘n geloofsaanvaarding van sy versoeningswerk aan die kruis. Dit gaan altyd met berou en sondebelydenis gepaard. Satan sal jou geloof in God met mening aanval, dit probeer verswak en deur middel van twyfel en bygeloof aftakel. Jy moet hom met ‘n standvastige geloof teëstaan, in die wete dat hy in Christus ‘n oorwonne vyand is. Moet nooit in die Here en sy oorwinningskrag twyfel nie. Tree met ‘n onwrikbare geloof tot sy genadetroon toe:

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6).

Soos ander gawes van die Heilige Gees, is geloof dinamies. Jy kan dus minder of meer daarvan hê. Juis hierin is die uitdaging geleë om op te groei in die allerheiligste geloof en geestelik sterker te word. As ons voel dat ons geloof wankelend is, sal ons gebedslewe daaronder ly omdat ons nie meer dinge in die geloof sal vra nie. In só ‘n situasie van twyfel moet ons saam met die dissipels vir die Here Jesus vra: “Gee ons meer geloof” (Luk. 17:5).

Die duiwel se aanslae is daarop gerig om jou geestelike groeiproses om te keer. Hy wil hê jou geloof moet minder word en verswak raak. Dit doen hy deur twyfel in jou hart te saai. Dinge gebeur met jou wat jou laat twyfel of die Here nog by en met jou is, of Hy jou nog werklik liefhet en vir jou omgee. Dit is ‘n groot sonde om aan die Here se nabyheid en liefde te twyfel, want dan slaan die vyand ‘n groot slag in jou lewe om jou geloof te ondermyn en jou uiteindelik in wanhoop en depressie te laat verval.

Glo jy dat die Here jou nooit sal verlaat nie, selfs nie in die moeilikste omstandighede van jou lewe nie? Hy belowe aan al sy kinders: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Heb. 13:5). Hierdie vaste wete moet jou bemoedig om die geloofstryd voort te sit:

“Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:12).

Hoop

Paulus vermaan ons “om vas te hou aan die hoop wat voorlê, [want] ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel” (Heb. 6:18-19). Brand die vlam van hoop nog hoog in jou hart? Sien jy uit na die wederkoms van Jesus Christus en na die ewige lewe wat in die hemel vir jou voorlê? Is hierdie hoop ‘n anker vir jou siel in die troebel en onstuimige waters waardeur jou lewensbootjie vaar?

Jy moet vashou aan die hoop wat voorlê. Maak ‘n studie van die wederkoms en ervaar hoedat jy opgetel word deur die blye verwagting dat die Here Jesus ons kom haal. Die hoop op sy wederkoms sal jou ook standvastig maak en sterk motiveer op die pad van heiligmaking. Dit sal jou aanspoor om Hom nougeset na te volg en jou nie deur die sonde te laat besoedel nie. “Elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).

Satan sal probeer om jou wederkomsverwagting te laat verflou sodat dit nie meer ‘n motiverende krag in jou lewe is nie. Hy wil nie hê dat jy heiligmaking en diensbaarheid moet nastreef in afwagting op die verskyning van die hemelse Bruidegom nie. Hy sal alles in sy vermoë doen om jou in ‘n vergeestelikte weergawe van die profesieë te laat glo, waarin die belofte van die wederkoms tot ‘n onbelangrike saak afgeskaal word. Sodoende ondermyn hy jou profetiese perspektief.

Wanneer die hoop op die wederkoms van Jesus Christus vervaag, dan vervang die duiwel dit met sekulêre doelwitte soos die versameling van aardse skatte en die opbou van ‘n aardse koninkryk. Baie mense wil net ryk en voorspoedig wees. Saam met dit probeer hulle ook om hier en nou ‘n Christelike koninkryk op aarde te vestig, en verwag nie meer die koms van die hemelse Vredevors en sý koninkryk nie.

Hoop is ‘n baie tersaaklike aspek van ‘n Christen se geestelike lewe. Dit is nie net op die ewige lewe gerig nie, maar ook op die Here se sorg en uitredding elke dag van jou aardse lewe. Veral in krisisse moet ons nie moedeloos word nie, maar ons hoop en vertroue volkome in die Here stel dat Hy aan ons uitkoms sal gee:

“Die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is... En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom. 5:5; 15:13).

Liefde

As geredde mense is ons gewortel en gegrond in die liefde van Jesus Christus. Van geloof, hoop en liefde is dit die liefde wat die grootste is – God se agape liefde wat uitreik na ‘n wêreld in sy nood. Menslike liefde is totaal verwronge en selfgerig omdat dit altyd net wil hê wat ander mense het, en wat die wêreld aan jou bied. Jy begeer alles wat jou oë sien, en wil dit vir jouself inpalm.

In die openbaring van God se liefde het Hy die eerste tree gegee deur in ons sondige toestand na ons neer te buig. Die Heilige Gees oortuig mense van hulle sonde en verlorenheid, en maak hulle ook van Jesus Christus se sondaarsliefde en reddende genade bewus. Hy stel hulle voor ‘n keuse om Hom aan  te neem of te verwerp. Geloof is net ‘n middel tot ‘n doel, naamlik om God se liefde en genade te kan aanneem sodat dit vir jou toegereken kan word. Liefde is nog steeds die grootste saak waaroor dit gaan. Die basiese rede waarom God die gawe van geloof tot jou beskikking stel, is sodat jy gered kan word.

Die liefde van God moet die grondslag van jou hele lewe word. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en met al jou kragte. Net so ook moet hierdie agape liefde wat na andere uitreik, die essensie van jou verhouding met jou medemens word. As jy die Nuwe Testamentiese gebod van die liefde nakom, dan het jy die wet vervul (Matt. 22:37-40; Rom. 13:8-10). Die Here het jou eerste liefgehad, en jy beantwoord dit net.

“Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord” (Rom. 13:12). Het jy al hierdie wapens aangegord – die wapen van geloof, die wapen van hoop en die wapen van die liefde? Oorwin jy die kwaad deur die goeie, of laat jy jou deur die kwaad oorwin? Satan loods geweldige aanslae op die belewenis én uitlewing van God se liefde in jou lewe. Hy wil jou verbitterd en opstandig maak omdat jy nie jou sin kry nie. Hy wil jou ook liefdeloos en haatdraend teenoor mense laat optree wat vir jou probleme skep.

Liefdeloosheid, bitterheid en vrees is drie van die wapens wat die duiwel met groot sukses gebruik in die stryd waarin ons staan. Ons moet liefdeloos en onverdraagsaam teenoor sonde wees, maar nooit teenoor die sondaars nie. As die liefde van God in ons harte is, sal ons geen vrees vir die komende oordele hê nie. Ons sal ook die vermoë hê om in die liefdelose en siek wêreld waarin ons leef, bokant ons probleembelaaide omstandighede uit te styg.

“Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Joh. 4:18-19).

SIEL

Die siel van die mens moet ook geheilig en aan die diens van God gewy word. Die drie aspekte hiervan is die intellek, wil en emosies:

Die intellek

Die verstand van die mens is ‘n belangrike poort waardeur kennis van die waarheid én kennis van die leuen hom kan binnedring tot in die dieptes van sy siel. Deur sy verstand, in samewerking met die sintuie van sy oë en ore, neem hy kennis van die evangelie van vrede wat aan hom verkondig word, en kom tot geloof:

“Die geloof is dus uit die gehoor en die gehoor is deur die woord van God” (Rom. 10:17).

Behalwe die waarheid, is daar ook ‘n groot aantal bose leringe wat die mens se verstand van buite af binnedring. Die Satan gebruik dit besonder intensief om sy verwarring en leuenpropaganda in mense se gedagtewêreld te vestig. Is jou verstand en gedagtes onder die beheer van Jesus Christus, of is dit ‘n stoorplek vir leuens, vuil gedagtes, materialistiese motiewe, dwaalleringe en halwe waarhede? Jy sal hierdie poort na jou hart met die geestelike wapens tot jou beskikking moet beskerm, anders sal die Bose dit gebruik om in te kom. Elke gedagte moet gevange geneem word tot gehoorsaamheid aan Christus.

Die vestings van valse leerstellings en ook valse godsdienste moet in mense se harte neergewerp word (die wat wíl luister), deurdat kennis oor dwaallerings bekend gemaak word. Die planne en strategieë van die vyand, waardeur hy mense intellektueel én geestelik wil mislei, moet ontmasker word. Alle gedagtes en beredenerings moet aan die waarheid van Christus en sy Woord onderwerp word. Indien dit nie gedoen word nie, mislei die vyand en sy leuenaars baie mense.

Die wil

Elke Christen moet ‘n wilsbesluit neem om die Here van harte te dien en in elke opsig van sy lewe aan Hom gehoorsaam te wees. Die Nuwe Testament leer ons om net die wil van die Here te soek en te doen (Rom. 12:2). Bid  die Vader om die verborgenheid van sy wil aan jou bekend te maak (Ef. 1:9), en in jou te “werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Fil. 2:13). Jy moet intelligent na sy wil soek in die Bybel. “Julle [moet] nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is” (Ef. 5:17). Bid ook dat jy “vervul mag word met die kennis van sy wil” (Kol. 1:9), sodat jy “volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kol. 4:12).

Maak jy vordering op hierdie terrein, of slaag die duiwel nog daarin om jou “die wil van die vlees en van die sinne” te laat doen? (Ef. 2:3). Moenie by jou neerlaag berus en gaan lê nie, maar vra die Here om jou op te rig en jou “vry te maak van die strik van die duiwel, nadat [jy] deur hom gevang was om sy wil te doen” (2 Tim. 2:26).

Emosies

Baie mense word in die geestelike oorlog waarin ons betrokke is, op emosionele gebied deur die vyand lamgelê en ontmoedig. In toestande van spanning en teleurstelling laat hulle toe dat emosionele depressie ontwikkel, waaruit negatiewe gedagtes soos moedeloosheid, verbittering en selfs totale belangeloosheid in die lewe voortvloei.

Daar is aktiewe negatiewe suggesties waarmee die duiwel mense ook aanval, soos vergelding, haat, aggressie, naywer, jaloesie en onvergewensgesindheid. In al hierdie opsigte moet die kwaad deur die goeie oorwin word, want die liefde van Christus en die blydskap en vergewensgesindheid van die Here stel ons daartoe in staat. Selfs ook wanneer negatiewe emosies hulle sterk voordoen, moet ons nie daaraan uiting gee nie, maar deur die krag van die Heilige Gees die nodige selfbeheersing beoefen.

Die Christen se temperament en emosionele lewe moet volkome deur die Heilige Gees beheer en bepaal word, anders voer die onstuimige vleeslike temperament die botoon. In ‘n oorgegewe lewe sal jy ontdek dat die blydskap van die Here alle negatiewe ervarings, gewaarwordings en gevoelens kan oorheers. Paulus kon onder die haglikste omstandighede in die tronk met oortuiging sê:

“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby” (Fil. 4:4-5).

Petrus sluit ook hierby aan, en sê dat ons ons met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap in die Here moet verbly (1 Pet. 1:8). Vervul die blydskap en vriendelikheid van die Heilige Gees jou lewe? Of het jy dalk nog ‘n ongetemde temperament wat baie maklik deur die sielevyand tot onbeheerste uitbarstings opgesweep kan word?

LIGGAAM

Die mens se liggaam moet ook geheilig en aan die Here diensbaar gestel word. Juis hierom val die duiwel ook ons liggame aan en moet dit teen sy ondermyning beskerm word. Die volgende drie aspekte van die liggaam is in hierdie verband ter sake:

Sintuie

Die vyf sintuie van die liggaam is poorte waardeur ‘n groot verskeidenheid invloede op jou kan inwerk. Die gehoor is die deur waardeur inligting oor die waarheid én die leuen tot die mens se verstand kan kom. Die oë is ewe belangrik vir die inneem van inligting in visuele vorm, insluitende al die begeerlikhede wat die wêreld aanbied. Die smaak-sintuig staan in verband met dit wat jy eet en drink, en word soms deur die reuksintuig aangehelp. Die gevoel-sintuig staan met ‘n groot verskeidenheid liggaamlike ervarings in verband. Om klaarblyklike redes moet Christene wie se liggame ook aan die Here gewy en geheilig is, ‘n groot mate van selfbeheersing beoefen om nie deur sintuiglike ervarings en gewaarwordings te sondig nie.

Fisiologie

Die gesonde funksionering van die mens se liggaam is ‘n baie belangrike bate en ‘n groot seën van die Here. Om gesond te wees en die volle potensiaal van jou liggaam te kan benut, is inderdaad ‘n voorreg. Siektes, ongelukke en ander fisiese terugslae is bekende tegnieke van Satan om ons te benadeel en minder bruikbaar in die diens van die Here te maak. Daar is baie oorsake van siektes wat nie na die duiwel herlei kan word nie, maar daar is beslis ook gevalle waarin ‘n gees van krankheid oor mense kom, gepaard met ander tekens van valse persepsies en bose beïnvloeding. Jou liggaam moet onbesmet en geheilig wees sodat dit as ‘n welgevallige offer in die diens van God gestel kan word. Om hierdie rede moet ons van enige besmetting van die wêreld en die sonde af wegvlug.

Ledemate

Die ledemate is die vermoë van jou liggaam om dinge te doen – goed óf sleg. Jy kan werk, skryf, praat, dink en verskillende dinge met jou liggaam doen. Soos wat jy voor jou bekering sonde met jou liggaam gedoen het, moet jy nou die Here daarmee dien:

“Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God” (Rom. 6:11-13).

Die duiwel sal jou aktief probeer verlei om sonde met jou liggaam te doen, maar jy moet hom weerstaan en hou by die feit dat jou liggaam nou aan God behoort:

“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Rom. 12:1-2).

 

8. Die Wil van God

Heiligmaking is ten nouste met die wil van God geassosieer. Die eerste stap in die doen van God se wil is om tot bekering te kom. Dit word inisiële heiligmaking genoem. Hierna volg die stap van volkome heiligmaking. Die oortuigingswerk om uitvoering aan God se wil te gee, word deur die Heilige Gees gedoen. Hy voltrek ook die werk van wederbaring en heiliging in ons lewens. Dit is nodig om te weet of ons lewens in ooreenstemming met die wil van God is. Dit is per slot van sake net diegene wat die wil van die Here doen, wat vir Hom aanvaarbaar is en eendag hemel toe sal gaan:

“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21).

Dit is vir elke mens op aarde van die grootste belang om God se wil te ken en sy lewe daarvolgens in te rig. Die eerste tree op hierdie pad is om alle vorms van sonde en rebellie teen God te staak en tot bekering te kom. Daarna moet die geredde persoon sy hele lewenswandel in ooreenstemming met die wil van God bring. Daar is dus ‘n toetreepunt met betrekking tot God se wil, maar ook ‘n voortgaande vordering tot by die volheid daarvan:

“Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:2).

In hierdie teks is daar duidelik van drie vlakke van die wil van God sprake, naamlik sy goeie, sy welgevallige en sy volmaakte wil.

Sy goeie wil

Om God se goeie wil te doen, vereis dat ek deur bekering in sy wil sal inkom vanuit ‘n ongeredde lewe wat buite sy wil gelei is: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:3-4). Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie, maar dat almal tot bekering sal kom (2 Pet. 3:9).

Dit is dus God se uitdruklike wil dat jy gered moet word. In Handelinge 17:30 staan daar: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.” Omdat jy ‘n vrye wilsbesluit het om ooreenkomstig God se opdrag tot bekering te kom, kan jy dit weerstaan en verwerp as jy wil. Dan sal jy die gevolge daarvan moet dra. Die Here Jesus het vir die inwoners van Jerusalem gesê: “Hoe dikwels wou Ek [julle] bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37-38).

Stéfanus het die ongeredde vormgodsdienstiges in Israel van dieselfde onbekeerlike gesindheid beskuldig: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees” (Hand. 7:51). Moenie die Heilige Gees weerstaan wat met ‘n vriendelike uitnodiging na jou toe kom om jou sondes te bely en te laat staan, jou saak met die Here reg te maak en Hom te dien nie (Joh. 16:8; Matt. 21:28-32). Sonder sy oortuigingswerk kan jy nie gered word nie, en dit is ook net Hy wat jou kan wederbaar.

Sal jy die wil van die Here begin doen deur jouself aan Hom oor te gee? Die “Here Jesus Christus [het] Homself gegee vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Gal. 1:3-4).

“En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het... in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander” (Ef. 2:1-3).

Die mensdom is in net twee families verdeel – die kinders van God en die kinders van die duiwel. As ons die goeie wil van God doen, dan noem die Here Jesus ons sy familie (Mark. 3:31-35) en ook seuns en dogters van ons hemelse Vader (2 Kor. 6:17-18). Die wêreldlinge en ongeredde vormgodsdienstiges word kinders van die duiwel genoem (Joh. 8:44; Hand. 13:10). Doen God se wil en word sodoende ‘n lid van sy familie! Dit is sy versoek, begeerte én opdrag aan ons.

Sy welgevallige wil

‘n Persoon wat gered is, het die Bybelse opdrag om ‘n heilige, diensbare en God welgevallige lewe te lei. Dit is sy redelike godsdiens, en die Here is met niks minder as dit tevrede nie. ‘n Marginale Christelike lewe van vleeslikheid en onvrugbaarheid word as onredelik beskou en is nie vir die Here aanvaarbaar nie. Sulke mense sal eendag met leë hande voor Hom staan, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:1-3,9-17). Doen jy as ‘n bekeerde persoon die Here se wil met betrekking tot heiligmaking en diensbaarheid?

‘n Geheiligde lewe, gees siel én liggaam, is nodig ten einde insig in verdere aspekte van God se wil te hê en ‘n lewe te lei wat vir Hom welgevallig is. Is jou hart en lewe gereinig en dra jy vrugte vir die ewige lewe, of bedroef jy die Heilige Gees in hierdie opsig deur jouself nie diensbaar te stel nie? Onderwerp jou dan aan God se wil wat dié saak betref, en weet dat Hy behae daarin sal hê om jou vir diens toe te rus:

“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery… Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3,7-8).

Ek moet van alle onreinheid gereinig word en in my hele lewenswandel heilig word (1 Pet. 1:15). Die beklemtoning van hoerery hierbo bevestig maar net die feit van die algemene voorkoms daarvan. Die vleeslike hartstogte en begeerlikhede van die mens word deur Satan uitgebuit, en seksuele versoekings kom een of ander tyd oor feitlik alle mense se pad. Die hele wêreld is in die greep van wellus vasgevang, en die vervaardigers en uitgewers van pornografiese films en tydskrifte (asook diegene wat pornografiese webwerwe het) word skatryk.

Nog ‘n algemene struikelblok in die weg van ‘n heilige, Geesvervulde lewe, is drankgebruik. Hulle tree ook in stryd met God se wil op:

“Julle [moet] nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:17-18).

Tabak, dwelms en baie ander dinge besoedel jou, “want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword” (2 Pet. 2:19). Die oplossing vir verslawing aan alle sonde is duidelik: As die Seun jou vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees (Joh. 8:36).

Moenie met hierdie besoedelings saamleef nie, maar doen daarvan afstand en stel jou liggaam as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer in sy diens. As jy dit nie doen nie, dan doen jy nie sy welgevallige wil nie en sal jy ook nie die seën van ‘n Geesvervulde lewe geniet nie. ‘n Lewe van val en opstaan is nie tot die Here se eer nie.

Sy volmaakte wil

‘n Persoon wat in ‘n volle oorgawe die stap van heiligmaking geneem en in die kennis en genade van Christus begin groei het, sal noodwendig na die volmaakte wil van die Here vir sy of haar lewe begin soek. Dit behels onder meer duidelikheid oor jou roeping, asook die beste wyse waarop dit uitgeleef kan word. Paulus sê: “Ek vermaan julle dan… om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is” (Ef. 4:1). Stel vas hoe en waar jy die Here die beste kan dien.

Ons moenie die Here net nou en dan behaag en slegs met tussenposes onsself aan Hom toewy nie. Ons moet ook nie met min vrug tevrede wees as ons veel meer vir die Here kan bereik nie. Daar moet na die volmaakte wil van die Here vir ons lewe gesoek word, sodat ons ons roeping as Christene volkome kan vervul. Paulus se gebed vir die Kolossense was: “dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9-10).

Die doel van hierdie gebed vir die Kolossense is: “dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kol. 4:12). Hulle moet daarna streef om ook God se volmaakte wil te ken en te doen – nie net sy goeie en welgevallige wil nie.

Het jy al die Here se volmaakte plan vir jou lewe ontdek? Die Bybel sê dat jy onder die leiding van God se Gees verligte oë van die verstand moet hê sodat jy jou geestelike roeping en erfdeel onder die heiliges kan verstaan (Ef. 1:18). Jy moet ook bid dat die Heilige Gees jou met krag versterk in die innerlike mens, sodat jy in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte, lengte, diepte en die hoogte van Christus se liefde is wat die kennis oortref, sodat jy daarin gewortel en gegrond kan word en vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:16-19).

Verval uit God se wil

Dit is nie vanselfsprekend dat as jy die welgevallige en volmaakte wil van God doen, jy dit altyd sal aanhou doen nie. Soos nooit tevore nie sal jy in jou lewe veel teëstand en stryd ervaar. Die duiwel sal jou op allerlei wyses aanval en probeer ontmoedig om met die Here se werk voort te gaan. Hy sal jou versoek om sonde te doen, en jou ook aktief deur middel van leerstellige dwalings probeer mislei.

Dit sal van jou standvastigheid, eerlikheid, gehoorsaamheid en toewyding aan die Here afhang of jy in sy volmaakte wil sal bly. Volgens Finney het predikers in die herlewingstyd dit nodig gevind om gemiddeld elke drie weke hulleself deeglik te ondersoek en opnuut aan die Here toe te wy. Hoeveel te meer het ek en jy dit nie nodig om gereeld die suurdeeg van sonde uit ons lewens te suiwer, met vars olie gesalf te word en ‘n hertoewyding aan die Here te doen nie? Hoe sal ons die regte besluite kan neem as ons die stem en leiding van die Here nie meer duidelik kan onderskei nie?

Net soos wat ons geestelik vooruit kan gaan en volmaak en volkome in die ganse wil van God kan staan, kan ons ook agteruitgaan en in ons geestelike lewe veld verloor. Dit is moontlik om uit God se volmaakte wil te beweeg sonder om radikaal van jou roeping af weg te breek. Jy sal dan minder vrug dra, nie meer honderd- en sestigvoudig nie, maar nog altyd die Here dien en dinge doen wat vir Hom welgevallig is. Jy sal egter weet dat nie alles in jou lewe meer pluis is nie.

Deur selfondersoek en ‘n hertoewyding kan jy weer volkome herstel word. Jy kan egter ook totaal onbetrokke by die werk van die Here raak, maar nog steeds aan jou getuienis as ‘n Christen vashou (God se goeie wil). Petrus en die dissipels het in ‘n stadium besluit om hulle roeping te laat vaar en weer te gaan visvang. Hulle het egter nie sukses hiermee gehad nie, en die Here Jesus het hulle besoek om hulle geestelike roeping as vissers van mense te herbevestig (Joh. 21:3-17).

Die Galásiërs het ook van God se welgevallige wil af wegbeweeg toe hulle geestelik veragter het. Paulus was verbaas dat dit so maklik kon gebeur, en het daarop gewys dat hulle mislei was:

“Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Gal. 1:6-7).

Kyk na die Here Jesus

Ons moet in verband met die wil van God, asook die absolute bereidwilligheid om nét dit te doen, na die volmaakte voorbeeld van die Here Jesus kyk. Hy het gesê dat Hy nie sý wil soek nie, maar die wil van die Vader wat Hom gestuur het (Joh. 5:30). In die krisisuur in Getsémané het Hy sy wil uitdruklik ondergeskik aan die wil van sy Vader gestel (Matt. 26:39). Dit het behels dat Hy Homself moes oorlewer om gekruisig te word sodat Hy sy Vader se wil kon doen:

“Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei… Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God… Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Heb. 10: 5,7,10).

Ons moet die wil van God doen deur hierdie offer te aanvaar, en ook ons wil in alle opsigte volkome aan sy wil te onderwerp. Dan sal ons die verdorwenheid van hierdie verganklike wêreld ontvlug en deelgenote van die ewige hemelse koninkryk van die Vader wees:

“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie… Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:15,17).

As ons deur die vervulling met die Heilige Gees verander en vernuwe word in ons gemoed, sal ons weet wat die goeie, die welgevallige en die volmaakte wil van God is omdat Hy die verborgenheid van sy wil aan ons bekend sal maak (Rom. 12:2; Ef. 1:9). In die lig van die kennis van sy wil sal ons ons lewens heilig, volkome aan die Here toewy, en ook ooreenkomstig sy wil gebede bid wat verhoor sal word:

“En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh. 5:14).

Ons moet die Here ten alle tye behaag, “nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen” (Ef. 6:6).

Die besonderhede van sy wil

Binne die breë raamwerk van God se wil moet die fyner besonderhede daarvan steeds op ‘n gereelde basis bepaal en uitgeleef word. Hoe moet ek die besluite neem waardeur ek uitvoering aan my roeping gee, en wat moet ek doen as ek voor ‘n kruispad of ‘n toe deur te staan kom? Vir hierdie en vele ander sake moet ook ooreenkomstig God se wil uitsluitsel verkry word. Soms is die antwoord duidelik en voor die hand liggend, maar dikwels twyfel mens of jy die regte besluit geneem het. Die volgende riglyne word aan die hand gedoen om God se wil in spesifieke situasies te bepaal:

Die Bybel. Die Here praat met ons deur sy Woord en gee dikwels uitdruklike opdragte wat ons kan navolg. Soms kry ons net breë beginsels en riglyne waaraan ons op die beste moontlike manier uitvoering moet gee. Ons moet egter ook bereid wees om nee vir ‘n antwoord te vat en nie aanhou om Bybel te lees totdat ons ons eie vooropgestelde antwoorde gekry het nie. Begin net om te doen wat jou hand vind om te doen – die Here sal jou lei en bevestiging uit sy Woord gee.

Gebed. Die Here sê dat ons Hom moet raadpleeg en ken in al ons weë (Spr. 3:6). Moet dus nie eensydige besluite neem voordat jy gebid en die Here in ‘n saak geken het nie. Hy belowe dat as jy soek, sal jy vind (Matt. 7:7). Dit geld ook die nodige wysheid om besluite ooreenkomstig sy wil te kan neem: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid… en dit sal aan hom gegee word” (Jak. 1:5).

Die Heilige Gees. Die Heilige Gees is “die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here” (Jes. 11:2). Hy sal jou in die hele waarheid lei (Joh. 16:13) sodat jy telkens die waarheid van God se wil van alle gevaarlike vorms van misleiding sal kan onderskei. Ook in hierdie opsig is veel gebed en verootmoediging nodig om by die regte besluit of standpunt te kan uitkom.

Omstandighede. Die Here lei jou ook deur omstandighede. Hy sê: “Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie” (Op. 3:8). Hou jou oë op geleenthede wat oop deure is. Let egter ook op omstandighede en geleenthede wat strydig met die wil van die Here is, en vermy dit. Moenie ‘n toe deur probeer oopforseer en jou eie wil op ‘n situasie afdwing nie.

Vrede in jou hart. “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil. 4:7). ‘n Mens kry vrede in jou gemoed as jy God se wil doen. Die mens wat nie hierdie vrede in sy hart het nie, sal ‘n onrustigheid en selfs ‘n innerlike stryd ervaar. Hy sal dan weet dat wat hy beplan of doen, nie in die wil van God is nie. Laat vrede altyd jou skeidsregter wees en moenie sonder dit met ‘n saak voortgaan nie (Kol. 3:15).

Gesonde verstand. Jou verstand word geheilig en op die Woord van God ingestel as jy die Here met jou hele hart, jou hele verstand en al jou krag liefhet. Deur die Heilige Gees gee die Here aan ons verligte oë van die verstand sodat ons sy wil kan verstaan en na die beste van ons oordeel uitvoering daaraan kan gee. Hy leer ons om ons gesonde verstand in sy diens te gebruik (Titus 2: 11-12; 1 Pet. 1:13).

Die begeertes van jou hart. Die Heilige Gees wek goeie begeertes in jou hart op wat tot eer van die Here is, “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Fil. 2:13). “Verlustig jou in die Here, dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart” (Ps. 37:4). ‘n Aanduiding van God se wil kan begeertes wees wat Hy self in jou hart gewerk het (Kol. 3:1). Jy móét die dinge van die Here begeer en bedink. As dit sy wil is, sal Hy aan jou ‘n oop deur gee om dit te kan doen. Vermy egter wêreldse begeertes.

Die regte tyd. Moenie impulsiewe, oorhaastige besluite neem nie. Die Here antwoord nie altyd dadelik nie. Wag die tyd af: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:16). Wees geduldig en wag op die Here.

Iets wat mens beslis nié moet doen wanneer jy na die wil van die Here soek nie, is om blindelings ander mense se advies te volg, veral mense wat beweer dat die Here vir húlle iets gesê het wat Hy nie vir jóú gesê het nie. Daar is vandag baie selfaangestelde profete wat mense se lewens met twyfelagtige motiewe in ‘n bepaalde rigting wil stuur. Waarom sou die Here so duidelik met húlle oor jou toekomsplanne praat en nie met jouself nie? Ons het nie, soos in die Ou Testament, middelaars nodig om vas te stel wat die Here se wil vir ons lewe is nie. Welmenende vriende se advies kan wél ter harte geneem word, maar dit kan nooit die finale aanduiding wees oor wat jy moet doen nie.

Geloofstoetse

Wanneer mens ‘n bepaalde roeping het en jouself voorgeneem het om onvoorwaardelik die wil van die Here te doen, moet jy beslis geloofstoetse op jou pad verwag. Benewens die aanslae van die Bose wat jou van jou roeping wil laat afsien, gaan die Here jou waarskynlik aan een of meer toetse onderwerp voordat Hy jou beproef sal verklaar. Jou vasberadenheid gaan te midde van teëstand en verdrukking getoets word. Jy gaan die les leer dat jy sonder Hom niks kan doen nie, en die beginsel sal ook by jou ingeskerp word dat jy die Here altyd moet raadpleeg en nooit op jou eie insig steun nie.

Verskeie Christene dop hierdie geloofstoetse, stel die Here baie teleur, dryf hulleself tot moedeloosheid en verloor hulle visie. Die Here gee mens egter die geleentheid om jouself reg te ruk, uit jou foute te leer en die volgende geloofstoets met veel groter krag en vertroue tegemoet te gaan. Abraham het in die land Kanaän ‘n geloofstoets gedop toe hy tydens ‘n droogte en hongersnood nie die Here se hulp gevra het nie, maar na Egipte afgetrek het om in die ‘wêreld’ ‘n heenkome te gaan soek. Groot benoudheid het daar oor hom gekom, en hy moes maar net terugkom na die plek van waar hy aanvanklik uit die Land van Belofte weggetrek het (Gen. 12:8–13:3). Later in sy lewe, toe Abraham voor ‘n veel groter toets te staan gekom het om sy enigste seun aan die Here te offer, het hy onwrikbaar in die geloof voortgegaan en streng volgens die voorskrifte van die Here gehandel (Gen. 22). Dit het aan hom ‘n beproefde en gelouterde geloof verleen wat nooit weer daarna gewankel het nie.

Baie mense begaan weens hulle impulsiwiteit, of as gevolg van die verkeerde advies wat hulle by onverantwoordelike beraders of ‘profete’ gekry het, ernstige oordeelsfoute wanneer hulle besluite oor hulle toekoms neem. Dan is daar ook baie ander wat, soos die verlore seun, as gevolg van hulle sonde en wêreldgesindheid uit die wil van die Here beweeg. Daar is sekere stappe van herstel wat jy sal moet neem indien jy aan die wil van die Here ongehoorsaam was:

  • Beoordeel jou omstandighede in die lig van die aanduidings van God se wil en kyk waar jy verkeerd gegaan het.
  • Besef dat jou ongehoorsaamheid, impulsiwiteit en eiesinnigheid sonde is waardeur jy van die wil van die Here afgewyk het.
  • Bely en laat staan alle bewuste sondes wat jy teen die Here gedoen het (1 Joh. 1:9), en draai vir altyd jou rug daarop.
  • Wyk onmiddellik en geheel en al van die  verkeerde pad af waarop jy is, en begin sistematies om verkeerde dinge reg te stel.
  • Buig voor die kruis neer, gee jouself oor om te sterf vir sonde en vleeslikheid, en word sodoende volkome aan die dood van Christus gelykvormig (Rom. 6:11).
  • Onderwerp jou lewe opnuut aan God se wil en vra Hom om vir jou ‘n rein hart en eerbare motiewe te gee (Ps. 51:12).
  • Herstel jou stiltetye en persoonlike toewyding aan die Here Jesus en steun net op Hom (Ps. 5:4; 71:12).
  • Vertrou die Here dan vir ‘n nuwe toerusting met krag uit die hoogte, sodat jy met vrymoedigheid sy lof kan verkondig (Luk. 24:49).
  • Bid die Here om jou roeping te bevestig en jou kragtig in sy diens te gebruik (Ps. 51:14-15).

Ons is baie naby aan die einde van die bedeling van die kerk, en meer as ooit tevore word mense mislei om totaal verkeerde sienings te huldig oor wat die wil van die Here vir hulle lewe is. Leerstellige dwalings, morele verval en valse tekens en wonders is besig om soos ‘n vloedgolf deur baie kerke te stroom en lidmate op die pad van verval mee te sleur. Die toenemende aantal profete en profetesse wat op ‘n aanmatigende wyse ‘namens die Here’ aan mense opdragte gee oor wat sy wil vir hulle lewe is, is ook ‘n duidelike tendens van die tyd waarin ons leef. Ons het die volle raad van God deur middel van die Bybel ontvang, en moet geen erkenning aan die selfaangestelde profete gee wat op buite-Bybelse openbarings van God se wil aanspraak maak nie. Hulle sê maklik: “Die Here het vir my gesê…” sonder om Skrif aan te haal en te verduidelik hoe hulle God se “stem” gehoor het.

Wanneer hulle ‘bediening’ ook nog deur tekens en wonders gerugsteun word, word sulke ‘profete’ gewoonlik kultusleiers wat blindelings deur mense nagevolg word. Uit hulle geledere sal die valse profete van die eindtyd kom (Matt. 24:11,24). Doen jy net nougeset die geopenbaarde wil van God en moet nie ‘n navolger van mense word deur hulle wil te doen en blindelings hulle opdragte uit te voer nie. Die Here is jou Leidsman – soek net sý wil sonder die bemiddeling van ander mense. Ons leef nie in die Ou Testamentiese bedeling waarin ‘n priester of profeet aan die mense gesê het wat God se wil vir hulle is nie. Ons moet self die Bybel lees en op die nuwe en lewende weg na die Here se genadetroon toetree (Heb. 10:19-22).

 

9. Gawes en Vrug van die Gees

Die Heilige Gees skenk aan Christene gawes om die Here en hulle medemens mee te kan dien. Hierdie gawes moet ontwikkel word. Ook bring die Gees in die vorm van goddelike gesindhede en lewensbeginsels vrug in gelowiges se lewens voort wat die aard van hulle persoonlikheid en karakter bepaal, asook hulle reaksies in verskillende situasies. Deur gehoorsaamheid aan die Heilige Gees moet hierdie geestelike gesindhede bevorder en nie deur ‘n vleeslike ingesteldheid geblokkeer word nie.

Gawes van die Gees

Die Heilige Gees wil elke Christen bekwaam maak om die Here tot sy maksimum potensiaal te kan dien. Hy beskik oor die krag en gawes om ons hiervoor te kan toerus. Wanneer ons onsself aan God diensbaar stel, moet ons liggaam, siel én gees geheilig word. Die Here reinig ons van geestelike en vleeslike besoedeling en maak ons ook bekwaam om op ‘n waardige wyse vir Hom te kan werk. As ‘n lid van die liggaam van Christus moet ek saam met ander lede werk om die liggaam – dit is sy kerk op aarde – doeltreffend te laat funksioneer. Dit beteken dat wat ek doen, ondersteunend en aanvullend moet wees tot dit wat ander lede doen, sodat die Here se verhewe doel met sy kerk op aarde bereik kan word. Paulus sê:

“Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie ‘n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid… Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here” (Rom. 12:4-8,11).

Die Bybel stel dit duidelik dat daar ‘n verskeidenheid gawes is, en dat die Heilige Gees dit afsonderlik aan elke gelowige uitdeel soos Hy wil (1 Kor. 12:11). Ons het dus geen opdrag om vir ‘n bepaalde gawe te bid, of om dit verpligtend vir alle Christene te maak nie. Ons moet onsself net onvoorwaardelik tot die beskikking van die Here stel, en Hy sal ons deur die Heilige Gees vir ‘n taak of take van sý keuse roep en toerus. Moet dus nie ander mense naboots en presies soos hulle probeer wees nie. Paulus sê hieroor:

“Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk” (1 Kor. 12:4-6).

Soms is ‘n gawe ‘n talent of vermoë wat iemand van geboorte af het, maar wat geheilig, ontwikkel en aan die Here gewy moet word in sy diens. Dit kan ‘n sangtalent wees, ‘n skrywerstalent, welsprekendheid, die vermoë om in een of ander aktiwiteit te presteer, of dit kan kennis oor ‘n verskeidenheid dinge wees wat mense deur hulle opleiding of ervaring verkry het. Daar is so ‘n groot behoefte aan ‘n breë reeks kundighede in die werk van die Here, dat daar bykans geen perke aan die verskeidenheid werke of bedienings is waartoe Hy mense kan roep nie. Het jy al jou gawes ontdek en saam met jou talente en vermoëns aan die Here gewy en ook verder ontwikkel? Baie mense begrawe hulle talente of gebruik dit net vir eie gewin.

Dit is belangrik dat alle talente, vermoëns en kundighede aan die Here gewy en geheilig word. Ons kan die Here nie in die krag van die vlees dien nie, omdat menslike werke niks in sy koninkryk kan vermag nie. Die Heilige Gees moet aan ons suiwer motiewe en verligte oë van die verstand gee, en ook sy salwing en krag, sodat ons God se wil kan ken en dit van harte onder die leiding van sy Gees sal doen.

Daar is ook gawes wat aan mense gegee word wat nie die ontwikkeling van ‘n latente of sluimerende vermoë is van dit wat die Skepper in hulle geplaas het nie. Dit is iets nuuts wat aan jou geskenk word. Hiervan sal jy bewus word nadat die Here jou vir ‘n bepaalde taak geroep het. Moet jou dus nie teen jou beperkings of swakhede blind staar as die Here jou vir iets roep nie, want Hy sal jou beslis in staat stel om dit te kan doen waarvoor Hy jou roep. Toe Moses as leier van Israel geroep is, en baie onderhoude en gesprekke met mense moes voer, ook met Farao, het hy agter sy spraakgebrek geskuil en so sy roeping probeer omseil. Toe hy hiermee volgehou het, het die Here hom sy broer gegee om namens hom te praat. Mettertyd het hy egter geleer om die Here vir elke situasie en probleem te vertrou, en het hy ‘n kragtige en dinamiese spreker geword wat nie meer deur ‘n segsman met die volk gepraat het nie. God het hom bekwaam gemaak om sy roeping doeltreffend te kon vervul.

Dien jy ook die Here deur die instaatstellende krag en gawes van die Gees, en ontwikkel jy deur oefening die genadegawe wat in jou is? Hierdie gawes moet gebruik word: “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Pet. 4:10).

Onthou altyd dat liefde die oorkoepelende gawe is waarbinne al die ander gawes funksioneer. Dit moet die wese en einddoel van enige bediening wees om die liefde van God in Christus Jesus te vertoon en aan ‘n geestelik sterwende wêreld te verkondig. Dit is die hoogste roeping wat daar is. Al sou ek allerhande tale kon praat, die gawes van profesie, kennis en geloof hê, en al sou ek al my goed uitdeel en ek het nie die liefde nie, sou dit my niks baat nie (1 Kor. 13:1-3).

Daar moet ‘n begeerte en bereidwilligheid by ons wees om die Here met ons hele hart lief te hê en ook altyd heilig te leef, dan sal ons liefdesdiens verrig. Lou en teruggevalle Christene het nie hierdie ingesteldheid nie. Vir hulle sê die Here:

“Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal  jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).

Dien jy die Here met suiwer motiewe en ‘n rein hart wat deur sy liefde vervul is, of is daar ander dinge wat vir jou belangriker is?

Talespreek

Mense wat die gawes van die Gees najaag, moet versigtig wees om hulle nie by die talespreek-beweging te laat intrek nie. Die Pinksterbelofte in die Bybel het glad nie talespreek ingesluit nie. Die Here Jesus het net gesê dat die dissipels krag sou ontvang wanneer hulle met die Heilige Gees vervul word, sodat hulle sy getuies kon wees (Hand. 1:8). Hy het nie gesê dat die dissipels van alle tye in tale sou spreek of dat tonge van vuur op hulle sou neerdaal wanneer hulle met die Gees van God vervul word nie.

Tóg het hierdie buitengewone tekens plaasgevind. Waarom? Daardeur het die Heilige Gees duidelik te kenne gegee dat die Woord van die Here, wat tot in daardie stadium net in Hebreeus en ook net aan die Jode verkondig is, nou aan alle volke en tale in die wêreld verkondig moes word. Om hierdie rede is daar in ander bestaande tale gespreek, wat dan vertaal of verklaar moes word sodat al die aanwesiges kon verstaan wat gesê is. Daar is nie in ‘n onbekende brabbeltaal gepraat, soos wat vandag die algemene gebruik is nie.

Die Jode, en selfs ook dissipels soos Petrus, kon nie regtig glo dat die evangelie vir alle volke en tale bedoel is nie. Vir die heidene was dit ook ‘n vreemde idee, daarom het die Here hulle ongeloof en skeptisisme deur middel van hierdie wonderwerk uit die weg geruim: “Die tale is dus ‘n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges” (1 Kor. 14:22). Daar is geen rede om hierdie teken voort te sit nie, want ons weet nou al vir byna 2000 jaar lank dat die evangelie vir alle volke en tale op aarde bestem is. Ons vertaal (of tolk) nog die evangelie vir veeltalige gehore, maar dit geskied nie meer met behulp van ‘n bonatuurlike gawe nie.

Verder moet in gedagte gehou word dat die boeke van die Nuwe Testament eers laat in die eerste eeu tot die beskikking van gemeentes gekom het. In die eerste paar dekades ná Pinksterdag is daar op persoonlike getuienisse en hoorsê staatgemaak oor wat Christenskap alles behels. Hierdie boodskappe het dikwels in ‘n ander taal as dié van die hoorders gekom, en dan het die Here aan ‘n ander persoon die gawe gegee om die betrokke taal te kon vertaal.

Soos wat die boeke van die Nuwe Testament egter beskikbaar geraak en onder gemeentes gesirkuleer is, is die gebruik van talespreek en tale uitlê mettertyd deur Skriflesing en Skrifuitleg (prediking) vervang. Paulus het vir die Thessalonicense gesê: “Ek besweer julle by die Here dat hierdie brief aan al die heilige broeders voorgelees word” (1 Thess. 5:27). Aan die Kolossense het hy gesê: “En wanneer hierdie brief by julle gelees is, sorg dat dit ook in die gemeente van die Laodicense gelees word en dat julle ook dié uit Laodicea lees” (Kol. 4:16). Die brief aan Laodicea verwys na brief aan die Efésiërs wat in dieselfde tyd geskryf en na gemeentes in daardie omgewing gestuur is.

Vir baie lank reeds het ons die volle raad van God wat in ons eie taal in sy Woord opgeteken is. (Hand. 20:27). Ons versoek die Here as ons na buite-Bybelse openbarings van sy wil deur tale, drome en visioene soek. Só kan daar net ernstige misleiding insluip.

Die vrug van die Gees

‘n Opdrag wat alle Christene het, is om die vrug van die Gees in hulle lewens te dra. Dit is basiese gesindhede wat ten grondslag van ‘n Geesvervulde persoon se lewe lê. Dit kan net gebeur wanneer die vlees gekruisig is en die Heilige Gees volle beheer oor jou hele lewe het. Indien die vlees nie gekruisig is nie, kan ‘n Christen nie die goeie bedoelings wat die Gees op sy hart lê, uitvoer nie, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).

Wanneer die vlees egter aan die kruis van selfverloëning hang, dan kan die Gees onbelemmerd jou gesindhede bepaal en ook jou voetstappe in die diens van die Here rig: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Alle weergebore Christene wat reeds deur die Gees lewend gemaak is, moet daarna streef om daagliks deur die Gees te wandel.

Sommige Christene laat na om ‘n volle oorgawe te maak en deur die Gees te wandel, en bied sodoende aan die vlees die geleentheid om sy arrogante en selfgesentreerde doel met hulle te bereik en vir andere aanstoot te gee. Die vrug van die Gees kom nie in sulke persone se lewens na vore nie, omdat dit deur die vlees weerstaan word.

Die Bybel sê presies wat die vrug van die Gees is, want dit wil die Here in ons almal se lewens sien:

“Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal. 5:22).

Hierdie gesindhede bepaal die diepste begeertes van ‘n persoon se hart, dit vorm sy karakter en beïnvloed sy hele lewenswandel asook die aard van sy optrede na buite. Die nege vrugte van die Gees is duidelik in drie groepe verdeelbaar, wat ‘n uitbeelding van die mens se gesindhede en verhoudingslewe op drie vlakke is. Die eerste drie beskryf die gesindhede wat jou verhouding met God kenmerk, die volgende drie bepaal die aard van jou verhouding met jou medemens, en die laaste drie is ‘n beskrywing van jou persoonlike karaktertrekke.

Die eerste drie vrugte is liefde, blydskap en vrede. God is liefde. Tydens en ná jou wedergeboorte word sy liefde deur die Heilige Gees in jou hart uitgestort. Jy word daarin gewortel en gegrond en dit word deel van jou hele lewe. Jy het die Here innig lief omdat Hy jou siel gered en jou sy kind gemaak het. Jy is nie meer in rebellie teen Hom weens jou sonde nie, want jy minag, belaster en vermy Hom nie meer nie. Inteendeel – jy soek sy teenwoordigheid op, besing sy lof, eer Hom en roep sy Naam aan. Daar is ‘n groot blydskap in jou hart oor wat Hy reeds vir jou gedoen het, en in die lewe hierna nog vir jou gáán doen. Onder alle omstandighede, selfs in tye van droefheid en beproewing, verbly jy jou in die Here en strek jou na ‘n wonderlike nuwe toekoms uit. In jou hart is daar ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan, want die Here Jesus is jou vrede. Hy het gesê: “My vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh. 14: 27). Sy vrede is ‘n diep, innerlike wete dat jou sonde vergewe is omdat jy met God versoen is. Jy hoef niks te vrees nie omdat jy nie in die oordeel van sondaars gaan kom nie. Jy weet ook dat geen vyandige magte, benoudheid, vervolging of enige probleme en aanslae jou ooit sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie.

Hierdie eerste drie vrugte, naamlik liefde, blydskap en vrede teenoor God, moet ook in aksie gestel word in jou verhouding met ander mense. Dit is presies wat gebeur, want die tweede groep, die mens-tot-mens-gesindhede, is lankmoedigheid, vriendelikheid en goedheid. Jy is nie meer haatdraend en veroordelend nie, maar lankmoedig teenoor mense. Jy kry hulle jammer en bid vir hulle, selfs jare lank, sonder om moedeloos te word en hulle af te skryf. Jy is ook ‘n vriendelike en gasvrye mens wat nie net vir jouself lewe nie, maar tyd vir ander het en ook na hulle uitreik. Jy doen goed aan hulle en gee wat jy kan om in ander se nood en behoefte te voorsien. Paulus sê: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Gal. 6:10).

Die derde groep vrugte, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing, is persoonlike karaktertrekke wat jy met die Heilige Gees se hulp en deur selfdissipline ontwikkel. Jy is getrou in al jou verantwoordelikhede, bowe-al in jou stiltetye, en nie ‘n agterlosige en gedisorganiseerde mens wat jou pligte versuim nie. Jy is ook sagmoedig, wat beteken dat jy ‘n sagte gemoed het. Jy is nie hard en ongenaakbaar nie, maar ‘n sagte mens wat vol deernis vir ander in hulle nood en probleme is. Sagmoedigheid beteken ook dat jy nie ‘n harde hart het wat hom teen die Here se Woord verhard nie. Jy het ‘n leerbare gees en laat jou deur die Woord van die Here én deur ander mense vermaan. Laastens beskik jy deur die Here se genade ook oor selfbeheersing. Dit beteken dat jy nie impulsiewe dinge doen of sê waaroor jy later verskoning moet vra nie. Jy sê nie in ‘n oomblik van drif lelike dinge wat uit ‘n ongekruisigde vlees opkom nie, want dit is beslis nie die vrug van die Gees nie. Hoe ken mense jou in die alledaagse lewe? Salomo sê: “Die lankmoedige is beter as ‘n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ‘n stad inneem… Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm van gees is, is ‘n man van verstand” (Spr. 16:32; 17:27). In die Nuwe Testament word hierdie kosbare gesindheid, saam met die ander wat genoem is, as die vrug van die Heilige Gees beskryf. Jy het die Here se genade nodig om so te kan wees, omdat dit ‘n uitdrukking van die goddelike natuur is.

Is dit ook ‘n beskrywing van jou lewe as Christen? Indien nie, bely die feit dat jy die Heilige Gees so dikwels deur jou gedagtes, begeertes, gesindhede, woorde en dade bedroef het. Maak die saak met die Here reg en onderwerp jouself volkome aan die gesag van die inwonende Gees van God. Hy sal jou in die weë van geregtigheid lei.

Die stryd van die lewe

Sommige mense meen dit is té veel gevra om die vrugte van die Gees in ‘n harde en ongenaakbare wêreld te dra. Almal van ons is by ‘n hewige stryd in die gebroke en sonde-belaaide wêreld betrokke. Is dit moontlik om altyd bly te wees? Die lewe is vol teleurstellings, skokke, droefheid en trane. Salomo sê dat die uitnemendste van ons ervarings moeite en verdriet is. Dank die Here dat daar iets oneindig beter as ‘n sinnelose, probleembelaaide lewe is. In Christus Jesus kan die ou dinge verbygaan, en alles nuut word. Deur sy genade en die krag van die Heilige Gees is dit moontlik om ons teëspoede en probleme te oorkom, ‘n sinvolle bestaan te voer en steeds die vrug van die Gees te dra. Sonder probleme, toetse, aanslae en versoekings sal ons in hierdie lewe nie wees nie, maar daar ís ‘n weg van oorwinning!

Baie mense se gesindhede word nie deur hulle geloof bepaal nie, maar deur wisselende emosies en uiterlike omstandighede. Sommige mense het soveel probleme dat hulle slagoffers van die sorge van die lewe word. Die Here Jesus het gesê: “Laat julle harte nie beswaar word deur die sorge van die lewe nie” (Luk. 21:34). Hy sê nie dat mense nie sorge of probleme sal hê nie, maar dat hulle nie moet toelaat dat dit hulle geestelik aftrek nie. Hulle moet hulle nie só daarteen blind staar dat hulle nie meer die oog op Jesus gevestig hou nie. In daardie nag toe die dissipels angsbevange op die stormsee rondgedobber het, is Hy die Een wat in die storm na hulle gekom en dit stil gemaak het.

Daar is baie mense wat in hierdie tyd vreesagtig rondkyk en nie weet waar hulle hulp vandaan sal kom nie. Hulle harte is ontsteld, en dit ondermyn hulle geloofsvertroue in die Here. Hulle moet ervaar dat die liefde van God alle vrees na buite dryf, en dat die Heilige Gees hulle wil help om weer die vrugte van die Gees te dra.

Is u daarop ingestel om ander mense in hulle smarte te vertroos en hulle te help om weer ware geluk, blydskap en vrede te ervaar? As u dit nie doen nie, kan hulle dalk in wanhoop verval of ontvlugting in die dinge van die wêreld soek, en dit het verwoestende gevolge in ‘n mens se geestelike lewe. Diep in hulle harte leef hulle in smarte weens hul omstandighede. Sommige mense probeer hierdie smarte agter ligsinnige gesprekke wegsteek, maar slaag nie altyd daarin nie. Hulle het dringend geestelike hulp en bemoediging nodig.

Koning Dawid het die smarte geken van iemand wat ‘n ernstige soeker na ware geluk en geestelike vervulling in die lewe is. Hy het besef dat net die Here die donker gedagtes en diep ongelukkigheid in sy hart ken en dit kan verander: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23-24). Die Here het Dawid se smarte so volkome weggeneem en met vreugdeliedere vervang dat hy geskryf het: “U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord” (Ps. 30:12). “U omring my met vrolike gesange van bevryding” (Ps. 32: 7). Daar was ‘n loflied op sy lippe!

Baie mense se selfbeeld is só afgetakel dat hulle vir hulleself én vir andere sê dat hulle niks beteken nie en ook niks kan doen nie. Die gevolg is dat hulle ‘n onvergenoegde en onvrugbare lewe lei. Dit is goed om aan die einde van jouself te kom en te besef dat daar in jou niks goeds woon nie. Moet egter nie by daardie doodloopstraat vertoef en dit as ‘n lewenswyse aanvaar nie. Onthou ook dat ‘n Christen nie sielkundige metodes moet gebruik om sy swak selfbeeld te verbeter nie. Hy moet van sy ou, vleeslike selfbeeld verlos word wat óf na arrogansie óf na wanhoop lei. In die plek daarvan moet hy ‘n nuwe, Christelike selfbeeld kry. Hy moet sy ou natuur aflê en hom met die nuwe lewe beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:22-24). Dan is daar ‘n wonderlike doel om voor te lewe, want dan soek ons nie ons eie belange nie, maar die eer van die Here.

Die mens is nie bedoel om ‘n sinnelose en ongelukkige bestaan te voer waarin die dae soos eenderse bakstene opmekaar gestapel word nie: “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus” (1 Pet. 2:4-5). Ons hoef nie net nostalgiese gedagtes oor ‘n beter lewe te koester nie, maar kan dit daadwerklik beleef: “Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen” (Ps. 23:1-3).

Wanneer ons geestelik lewend gemaak is, sal ons nie soos bome in die winterkoue wees wat hulle blare verloor het en waarvan die kaal takke soos met lang, krom vingers na ‘n troostelose lug gryp nie. Die regverdige “sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps. 1:3). Selfs in die onaangename werklikheid waarin die kind van die Here homself hier bevind, het hy ‘n vrede wat die wêreld nie ken nie. Hy kan ten spyte van moeilike omstandighede ‘n gelukkige en sinvolle lewe lei en ook ander help en bemoedig: “Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is. Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer. 17:7-8).

Die vrugte van die Gees moet onder alle omstandighede in jou lewe gedy – nie net in die sonskyndae nie, maar ook in die skadu’s van beproewing, lyding, vervolging en eensaamheid.

Oorwinning in die stryd

Dit is ‘n onbetwisbare feit dat die Here Jesus deur die bloed van die kruis en die krag van die Heilige Gees van al sy dissipels meer as oorwinnaars wil maak. Selfs ten spyte van die grootste teëspoed, droefheid of aanslae op ons, moet ons altyd geestelik bokant ons omstandighede kan uitstyg en ons in die Here verbly. Kan u van hierdie oorwinning getuig en steeds die vrugte van die Gees dra, of word u dalk deur die sorge van die lewe afgetrek en ontmoedig?

As u volhard en nie aan die vyand se aanslae en negatiewe suggesties toegee nie, sal die Here die beproewings vir u in ‘n seën verander. Hy sal aan u soveel blydskap en  krag tot oorwinning gee dat ‘n totale negatiewe ervaring vir u in ‘n bron van ryke seën en geestelike opbouing omskep sal word. In dié verband haal ek graag die ervaring van ‘n sendeling en sy vrou aan, wat jare lank onder baie moeilike omstandighede op ‘n afgeleë sendingstasie vir die Here gewerk het.

Hulle het sewe kinders gehad, waarvan die derde een, Christo, as ‘n baba breinvliesontsteking gekry het. Die siekte is té laat gediagnoseer en sy brein is permanent beskadig. Dit het nie ontwikkel nie en mettertyd verder verswak. Later kon Christo selfs nie eers meer die paar woorde uitspreek wat hy vroeër geken het nie, en het nooit weer gepraat nie. Dit was baie moeilik om hom te versorg, omdat hy soms weggeloop het en daar oral na hom gesoek moes word. Hy het ook een aand sy beddegoed met ‘n kers aan die brand gesteek terwyl die sendeling en sy vrou op besoek was, en ernstige brandwonde opgedoen. Sy ouers was verplig om hom na ‘n inrigting in Howick te stuur. Daar het hy op 21-jarige ouderdom aan ‘n maagaandoening gesterf.

Vir baie mense sou ‘n ervaring van hierdie aard miskien na totale moedeloosheid of verbittering gelei het. Geesvervulde kinders van die Here is egter deur sy krag en genade in staat om uit hulle beproewings te leer en sterker uit die stryd te tree. In ‘n huldeblyk ná Christo se dood het die sendeling en sy vrou soos volg oor hierdie hartseer ondervinding in hulle lewe geskryf:

“Sy naam was Christo, maar in sy kindertaal het hy homself Koetoe genoem. Van die mens se kant gesien, was sy lewe ‘n tragedie. Op tien maande ouderdom het hy die verwoestende siekte ensefalitis ten prooi geval en is sy brein permanent beskadig. Na die uiterlik gesproke was sy lewe leeg en het dit misluk. Die pragtige vaas het geval en gebreek en ons het die skerwe oorgehou. Tóg was sy lewe, van God se kant gesien, nie tevergeefs nie omdat dit andere geestelik opgebou het. Dit het tot ons as familie gespreek in ‘n taal wat diep in ons siele weerklank gevind het. Loutering deur lyding was nog altyd die weg van God met die mens. In hierdie geval was dit sy lyding vir ons loutering.

“Die Here het vir Christo leeg gemaak sodat ons by die aanskouing daarvan kan besef dat ons bekers altyd moet oorloop. Hy was ‘n gebreekte kruik sodat ons die waarde kan besef van in een soliede blok gegiet te wees. Hy was arm sodat ons kan leer om in ons rykdom van gees en materiële besit steeds die beste aan God te wy. Woorde het op sy lippe weggesterf sodat ons nie moet swyg om die lof van die Here te verkondig nie.

Nie deur sy arbeid en lewe nie, maar deur sy lyding en sterwe in eensaamheid, het Christo vir ons ‘n boodskap nagelaat wat nie in woorde vervat is nie, maar in ‘n stille wete. ‘n Vuur is in ons huis geslinger sodat ons soos gelouterde goud daar kan uitkom. In Christo se weerlose liggaam het ons die afskuwelike aanval van Satan gesien, sodat ons God kan verheerlik vir ‘n regverdige oordeel oor die duiwel en sy engele.

“Christo het ons uitgedryf tot gebed. Ons as familie weet wat nagte van trane en gebed is. Ons weet ook van groepe vriende uit alle oorde wat vir hom gebid het. Ons kan getuig van swart Christene wat by God vir hom ingetree het. Ons glo aan ‘n God wat alles weer gelyk maak en aan sy kinders oorvloedig vergoeding skenk vir elke traan en elke verlies ter wille van sy Naam… Saam met Job kan ons sê: “Maar ek, ek weet my Verlosser leef en Hy sal as laaste oor die stof opstaan” (Job. 19:25). Die Naam van die Here wat gegee en geneem het, sy ewiglik geprys!” (einde van aanhaling).

Dit is die vrugte van die Gees in die praktyk – daar waar die vuur van vervolging hoog brand, waar die smeltkroes dreig om jou te verteer, en waar droefheid en verslaenheid byna daarin slaag om die oorhand oor jou te kry. Wanneer mense nie meer kan help nie, leer jy om in jou smarte jou toevlug na die Here te neem en by Hom berusting en hulp te vind. In daardie oomblikke ervaar jy dat Hy aan jou krag gee om jou kruis te dra, want “as hulp in benoudhede is Hy in ‘n hoë mate beproef” (Ps. 46:2). “Wees maar net stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting” (Ps. 62:6).

Onderwerp jouself aan die vormende hand van die hemelse Pottebakker sodat Hy van jou ‘n voorwerp tot eer kan maak. Selfs wanneer Hy ons tugtig, is sy einddoel daarmee “sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Heb. 12: 10-11).

Ons moet deur ‘n leerskool van beproewings gaan sodat ons in die praktyk kan leer om ons volle vertroue in die Here alleen te stel. Ons moet ook in die louterings wat oor ons kom, van die oorheersing deur die vlees bevry word sodat die vrug van die Gees onbelemmerd in ons lewe kan uitspruit.

Ek kan die krag van Christus se opstanding eers waarlik leer ken en ervaar wanneer ek gemeenskap met sy lyde het en aan sy dood gelykvormig word (Fil. 3:10). Dit is slegs met die aflegging en kruisiging van die ou lewe dat ek vinnig kan vorder op die pad van die nuwe lewe waarheen Christus my roep.

 

10. Bedieninge van die Heilige Gees

Die Heilige Gees speel ‘n baie belangrike rol in die vestiging, instandhouding en uitbreiding van God se koninkryk op aarde. Die Gees doen hierdie werk in sy eenheidsverband met die Vader en die Seun, en dit neem die vorm van ‘n verskeidenheid bedieninge aan. Dit is nodig dat die werk van die Heilige Gees ten volle erken sal word, dat Hy nie gesmaad, bedroef, weerstaan of uitgeblus sal word nie, maar geëer en gehoorsaam word.

Deur die Heilige Gees handhaaf God sy alomteenwoordigheid, red mense se siele, vestig sy kerk op aarde, openbaar Homself aan sy kinders, lei en versterk hulle, en oortuig die wêreld van sonde, geregtigheid en oordeel. Die werk van die Heilige Gees kan in ‘n hele aantal bedieninge onderskei word, waarvan die twaalf belangrikstes kortliks in oënskou geneem word.

Die begrip van heiligmaking kom daarby in dat dit die Gees is wat die bedienaar van die veelvuldige genade van die Vader en die Seun is. Hy red, heilig en lei ons in die hele waarheid op grond van die soenverdienste van die Here Jesus. Deur aan Hom gehoorsaam te wees, word ons gereinig en afgesonder vir die diens van die Here. Deur Hom in ons lewe te weerstaan, te bedroef of uit te blus, kom in ‘n mindere of meerdere mate op die verwerping van een of meer van sy bedieninge neer. Ons moet van sy werk kennis neem en dit aanvaar en bevorder.

Die twaalf bedieninge van die Heilige Gees is die volgende:

Die Gees wat die Seun en die Vader verteenwoordig en verheerlik

Die Here Jesus het gesê:

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor sal Hy spreek… Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Joh. 16:13-15).

Die Heilige Gees verteenwoordig en verheerlik die Seun en die Vader. Hy spreek nie uit Homself nie, maar verkondig die woorde van die Here Jesus en die Vader. Dit is waarom ons so ‘n sterk bewussyn van die Seun en die Vader se teenwoordigheid kry wanneer die Gees tot ons spreek. Dit mag selfs wees dat ons glad nie van die Heilige Gees se inwerking bewus is nie. Die ander uiterste is dat mense nét die Heilige Gees aanspreek en eer, en Jesus op die agtergrond skuif. Dit is heeltemal onvanpas, omdat die Heilige Gees juis die Here Jesus in ons midde verheerlik, ons aan sy woorde herinner en sy genadewerk verkondig en bedien.

Die Heilige Gees kom nie in sy eie Naam na ons toe nie, maar in Jesus se Naam; daarom het die Here Jesus gepraat van “…die Heilige Gees wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh. 14:26). Die geestelike dors wat almal van ons het, les die Here Jesus ook deur middel van die Heilige Gees:

“As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39).

Geloof word dus in Christus gestel, maar die Heilige Gees is die bedienaar van sy genade.

Die Gees van liefde

Die Heilige Gees het ‘n bepaalde bediening om die liefde van God wat daar in Christus Jesus is, te verkondig en aan ons te skenk. Paulus sê: “…en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5). Hierdie agape liefde is uitwaarts gerig en daarop ingestel om in die diepste behoeftes van ‘n wêreld in sy nood te voorsien. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16).

Nadat ons gered is, moet ons in hierdie liefde gewortel en gegrond word en ook volmaak word in die liefde. Dit gebeur namate ons met die Gees van die liefde vervul word.

Die Gees van die waarheid

God is waarheid, sy woord is die waarheid, die Here Jesus is die weg, die waarheid en die lewe, en die Heilige Gees is ook die Gees van die waarheid wat ons in die hele waarheid lei (Joh. 14:6; 16:13; 17:17). Jesus het gesê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Die waarheid van die evangelie van verlossing het ‘n vrymakende krag, en hierdie waarheid word deur die Heilige Gees aan ons oorgedra en in ons harte bevestig. Dit verskaf aan ons ‘n vaste riglyn vir ons lewe.

Die verkondiging van die waarheid vind egter nie in ‘n onbelemmerde situasie plaas nie. Ons leef in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19), en van hom af gaan daar ‘n gees van dwaling uit om mense te mislei en hulle oë vir die waarheid te verblind. Ons word uitdruklik hierteen gewaarsku:

“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is… Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling” (1 Joh. 4:1-6).

Die Heilige Gees wat in Christene se harte woon, is groter en ook sterker as die Antichris se gees van dwaling. Jy hoef dus nie die slagoffer van misleiding te wees nie, en nooit die knie voor ‘n afgod te buig nie. Die Heilige Gees gee aan jou deur die Bybel die kennis, maar verder ook die moed en krag, om vir die waarheid uit te staan.

Die Gees wat oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel

Die Here Jesus het oor die Heilige Gees se oortuigingswerk gesê: “…en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Joh. 16:8).

Alle ongeredde mense moet innerlik van hulle sonde oortuig word, asook die feit dat hulle as gevolg daarvan in ‘n toestand van rebellie teen God verkeer. Die Heilige Gees gebruik die geskrewe én gesproke woord om dit te doen. Hy vestig diep oortuigings van sonde en verlorenheid in sondaars se harte. Wanneer Hy dít gedoen het, gaan Hy voort om die oplossing van die sonde-probleem by die ongereddes tuis te bring. Dit bestaan daarin dat sonde vergewe en Jesus Christus se geregtigheid aan sondaars geskenk word. Hiervoor is daar ‘n duidelike voorwaarde: hulle móét eers hulle sonde bely en laat staan (1 Joh. 1:9; Spr. 28:13) om genade te kan vind.

‘n Derde aspek van sy oortuigingswerk het op die komende oordele betrekking. Sondaars moet duidelik besef dat as hulle nie van die Here Jesus se genade-aanbod gebruik maak nie, hulle saam met die duiwel en sy gevalle engele tot die ewige vuur van die hel verdoem sal word. In werklikheid is hulle reeds onder daardie oordeel – dit moet nog net voltrek word (Joh. 3:18). Dit is in alle sondaars se eie belang om nie die oortuigingswerk van die Heilige Gees te weerstaan nie, omdat dit op hulle behoud ingestel is. Elkeen wat in die Here Jesus glo en gered word, kry die versekering dat hy nie in die oordeel kom nie:

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh. 5:24).

Die Gees wat wederbaar en doop

Die belangrike saak van die redding van siele word deur die Heilige Gees op grond van die versoeningswerk van die Here Jesus gedoen. “Niemand kan sê [bely] dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor. 12:3). Dit is die Heilige Gees wat die Here Jesus as Verlosser aan ons bekend stel, en ook die nuwe lewe deur ‘n geestelike wedergeboorte aan ons skenk. Hy is die lewendmakende Gees van God wat ná die wedergeboorte ook in ons kom woon:

“En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (Rom. 8:11).

“[Hy is] die Gees van aanneming tot kinders… Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom. 8:15-16).

Die wedergebore kind van God word ‘n tempel van die Heilige Gees genoem omdat die Gees in hom woning maak. Baie Christene besef nie dat hulle deur die Here Jesus gekoop is, aan Hom behoort, deur sy Gees tot ‘n tempel van God omskep is, en dat hulle voortaan heilig moet lewe en God verheerlik nie. Aan die vleeslike Korinthiërs wat vol van hulleself was, vra Paulus:

“Weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:19-20).

Wedergebore Christene vorm ook saam die liggaam, of kerk van Christus. Daar is net een liggaam, en dus ook net een ware Christelike kerk op aarde – dit is die geredde mense wat hulleself in verskillende denominasies bevind, of dalk in geen denominasie nie. Daar word ook gesamentlik na die ware Christendom (dit sluit ongeredde naamchristene uit) as die tempel van die Heilige Gees verwys:

“Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees” (1 Kor. 6:16).

Wanneer ‘n persoon wederbaar word, word hy deur die Gees in die liggaam van Christus gedoop: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (1 Kor. 12:13). Die Heilige Gees se bediening van doop staan met wedergeboorte in verband – dit is die oomblik wanneer die bekeerling ‘n lid van die liggaam van Christus word. Dit verwys nie na die salwing of verdere vervullings met die Heilige Gees nie.

Hierdie doop is ‘n suiwer geestelike ondervinding wat nie met die waterdoop verwar moet word nie. Johannes die Doper het gesê dat Jesus ons nie met water sal doop nie, maar met die Heilige Gees (Matt. 3:11). Die waterdoop, wat ook deur die Here Jesus beveel is (Mark 16:16), is net ‘n simbool en getuienis van die innerlike, geestelike doop wat tydens wedergeboorte ontvang is. Die vraag aan Israel was nie of hulle aan hulle vlees besny was nie, maar of hulle harte besny was. Die vraag aan ons is ook nie in die eerste plek of ons met water gedoop is nie, maar of ons nuwe mense is wat deur die Heilige Gees gedoop is (Gal. 6:15; Deut. 30:6; Rom. 6:3).

Die Gees wat vervul en heilig

Dit is ‘n duidelike Nuwe Testamentiese leerstelling dat mense wat reeds wederbaar is en die Heilige Gees ontvang het, ook met die Gees van God vervul moet word. Dit behels ‘n volle oorgawe waarin alle struikelblokke van sonde en vleeslikheid deur belydenis, selfverloëning en selfkruisiging verwyder word sodat die Heilige Gees jou kan vervul en volle beheer oor jou lewe verkry. Nie almal doen dit egter nie. Reeds in die vroeë Christelike kerk was dit duidelik dat net sommige mense Geesvervuld was, en dat net uit hulle geledere ampsdraers vir die gemeentes gekies kon word: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees” (Hand. 6:3).

Die gemeente in Éfese word deur Paulus toegebid dat hulle met krag versterk sal word deur die Gees van God in die innerlike mens (Ef. 3:16). Die Thessalonicense word onder die leiding van die Heilige Gees tot ‘n lewe van morele reinheid en volkome heiligmaking geroep (1 Thess. 4:7-8; 5:23-24). Johannes sê dat die Gees van die waarheid in en deur die kinders van God werk om die antichristelike gees van dwaling teë te staan (1 Joh. 4:1-6).

Die Heilige Gees wil ons met ‘n oorwinnende, goddelike natuur beklee sodat ons onder alle omstandighede waardig kan wandel.

Die Gees wat toerus met krag en gawes

Die belofte van Jesus aan sy dissipels was: “…julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Dit was ‘n verdere aandoening met krag uit die hoogte vir reeds geredde mense. Nou het die dissipels die Heilige Gees in sy pinkstervolheid ontvang. Voor hierdie geleentheid het Jesus al oor sy dissipels geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees” (Joh. 20:22). Nogtans moes hulle daarna vervul word met die Heilige Gees sodat hulle krag en vrymoedigheid kon hê om die evangelie te verkondig. Omdat Paulus oor hierdie krag beskik het, kon hy sê dat sy prediking nie in oorredende woorde van menslike wysheid was nie, maar in die betoning van gees en krag (1 Kor. 2:4).

Benewens sy krag, verleen die Heilige Gees ook ‘n verskeidenheid gawes aan kinders van die Here om hulle vir bepaalde aspekte van Christelike dienswerk toe te rus. “…aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is” (1 Kor. 12:7).

Die Gees van gebed en smeking

Niemand kan waarlik bid voordat die Heilige Gees hom nie van sy sonde en nood oortuig en ook die begeerte by hom opgewek het om in gebed daarmee na die genadetroon te gaan nie. Ons kan net in en deur die Heilige Gees bid, en op grond van die versoening en middelaarsposisie van Jesus na die genadetroon van die Vader nader. Wanneer ons nie mooi weet wat om te sê as ons bid nie, dan help die Heilige Gees ons om ons diepste nood en behoefte aan die Here bekend te maak: “…so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge” (Rom. 8:26).

Gebed moet ‘n volgehoue kenmerk van ons lewe wees. Paulus sê dat ons “met alle gebed en smeking by elke geleentheid moet bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Ef. 6:18). Ons moet hierin volhard.

Daar sal onder die leiding van die Heilige Gees hartroerende gebede en geween wees wanneer die oorblyfsel van Israel met die Messias versoen word as Hy weer kom: “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het… In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem” (Sag. 12:10-11).

Ons moet gehoorsaam wees wanneer die Heilige Gees ons tot meer gebed wil beweeg. Sonder veel gebed sal ons die Gees bedroef en kragteloos in ons geestelike lewe word. Paulus verwys ook na die krag van die Heilige Gees wanneer hy sê: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Dié stryd word op ons knieë gewen.

Dit is ‘n baie belangrike bediening van die Heilige Gees om mense tot volhardende, gelowige gebed aan te spoor. Ons moet uitvoering hieraan gee en ook daagliks genoeg tyd daarvoor inruim.

Die Gees wat lei, inspireer en salf

Die Heilige Gees is aan ons gegee om ons in die hele waarheid te lei (Joh. 16:13). Hy gee aan ons verligte oë van die verstand sodat ons die verborgenhede van God se raadsplan vir die mens kan verstaan (Ef. 1:18). Hy stel ons ook in staat om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte, lengte en diepte van Christus se liefde is wat die kennis oortref, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:18-19).

Daar is verskillende vorms van goddelike inspirasie wat gegee word aan mense wat besondere take moet verrig. Dit kan ook as salwings beskryf word. In Bybelse tye is sekere mense geroep en gesalf om die woord van God op só ‘n volmaakte wyse te skryf dat dit foutloos was: “…want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:21; vgl. 2 Tim. 3:16-17).

Die Heilige Gees wil ons Leidsman in alle sake wees, tot in die kleinste besonderheid, maar dan moet ons daarom bid en sensitief vir sy leiding wees. Hy kan maklik bedroef word as ons Hom nie gehoorsaam nie. Effektief bid ons om die Vader se wil in die naam van Jesus Christus, maar Hy lei ons deur sy Heilige Gees wat in ons woon. Die Here het behae daarin as ons Hom raadpleeg en ken in al ons weë, want dan aanvaar ons sy gesag en sal sy wil in ons lewens geskied.

Die Gees wat ons deur sy teenwoordigheid vertroos

Jesus Christus het die Heilige Gees se rol van vertroosting in die lewe van gelowiges só verduidelik:

“Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe” (Joh. 14:16-18).

Christus het gesê dat die Vader die Trooster, die Heilige Gees, in sy Naam sou stuur. Dit sou ‘n baie groot verandering in die dissipels se lewens tot gevolg hê. Die droefheid en ontsteltenis omdat Jesus hulle sou verlaat en na sy Vader in die hemel teruggaan, sou deur die koms van die Trooster heeltemal uit die weg geruim word. Dit sou selfs vir hulle baie beter wees, want Jesus sou voortaan deur sy Heilige Gees in elkeen van hulle se harte woon. As gevolg hiervan kon hulle op ‘n geestelike vlak sy teenwoordigheid onafgebroke ervaar. Dit was vir hulle oneindig meer voordelig, want ‘n liggaamlike Jesus kan nie ten alle tye by al sy dissipels teenwoordig wees nie.

Omdat die Heilige Gees een met die Vader en die Seun is, verteenwoordig Hy hulle ten alle tye. Dit is dus die Drie-enige God wat deur die Gees sy intrek by alle Christene neem. Ons ontvang nie net die ander Trooster nie, maar ook die Vader en die Seun. Hoe groot is die verpligting op ons nie om waardig te wandel, die Here lief te hê en sy Woord te bewaar nie! Jesus het gesê:

“As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Joh. 14:23).

Die Gees van wysheid en kennis

“Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid” (Ps. 111:10). Alle skatte van wysheid en kennis is in Hom verborge (Kol. 2:3). Dit is ‘n bediening van die Heilige Gees om hierdie goddelike kennis en wysheid aan ons te openbaar. Paulus het ernstig vir die Efésiërs gebid “dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan [hulle] die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee” (Ef. 1:17).

Put u gereeld uit die bron van geestelike wysheid en is dit die grondslag van u hele lewe, ook in die sekulêre wêreld waarin u uself bevind? Paulus sê: “Die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Kor. 2:10). Alle sake moet in die lig van goddelike wysheid beoordeel word. Dit gee aan die Geesvervulde Christene ‘n baie groot voorsprong bo die wêreld:

“Ons het… nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer… Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor. 2:12-14).

Kom jy wysheid kort? Bid die Vader om sy wysheid deur die Heilige Gees aan jou te skenk, en Hy sal dit doen (Jak. 1:5).

Die Gees van profesie

Volgens Johannes 16:13 is dit ook ‘n bediening van die Heilige Gees om die toekomstige dinge aan ons te verkondig. Nadat die geweldigste oordele in die boek Openbaring beskryf is wat in die groot verdrukking oor die aarde gaan kom, word in hoofstuk 19 gesê: “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10).

Die oordele van God is bedoel vir dié mense wat nie sy genade-aanbod deur die Here Jesus wou aanvaar nie. Dit is die rede waarom die Heilige Gees ook oordele en strafgerigte aankondig. ‘n Wêreld wat die liefde en reddende genade van God smaad, asook sy Heilige Gees wat hulle daarvan wil oortuig, moet noodwendig die boodskap van God se toorn oor die sondaars hoor. Hy sal nie die sonde ongestraf laat bly nie. As mense weier om hulle sondes voor die genadetroon te bely en te laat staan, sal hulle self die straf daarvoor moet betaal. Hulle sal dan uitvind dat dit vreeslik is om te val in die hande van die lewende God (Heb. 10:31). Ondenkbare oordele wag op hulle.

Wat die Christene betref, gee die Heilige Gees aan ons ‘n duidelike toekomsverwagting vir die wederkoms van Jesus Christus. Dit is die Heilige Gees wat die bruidsgemeente roep, toerus en heilig. ‘n Kenmerk van ‘n Geesvervulde Christen is dat hy na die koms van die Here Jesus en na sy woning in die hemel uitsien. Hy beywer homself om op dié dag vlekkeloos en onberispelik in heiligheid bevind te word.

Die Heilige Gees, onder wie se direkte inspirasie alle Bybelse profesieë geskryf is, het ‘n bediening om daardie profesieë aan ons te verkondig. Petrus sê: “Ons het die profetiese woord, wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn” (2 Pet. 1:19). Dit sal jou help om jou donker tydsomstandighede beter te verstaan, en ook onwrikbaar te glo dat daar vir alle Christene ‘n salige hoop voorlê wanneer hulle met die hemelse Bruidegom verenig sal word (Titus 2:13).

Wanneer God se basuin blaas, sal die gestorwe heiliges uit die dood opgewek word en onverganklike opstandingsliggame kry. Dié wat nog in die lewe is, sal in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, met verheerlikte liggame beklee word en saam sal almal van hulle weggevoer word, die Here Jesus tegemoet in die lug (1 Kor. 15:51-52; 1 Thess. 4:16-17). Ons moet egter nou reeds onder die leiding van die Heilige Gees aan die bruilofskleed werk wat ons daardie dag aan sal hê, want die weefstof daarvan vloei voort uit “die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8). ‘n Heilige lewe is onontbeerlik, want sonder heiligmaking sal niemand die Here sien nie (Heb. 12:14).

Omdat die twee sake van heiligmaking en ‘n wederkomsverwagting met mekaar in verband staan, sê Paulus: “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:19-20). Moenie een van die Heilige Gees se bedienings in jou lewe geringskat en verwaarloos nie, want dan sal jy geestelik arm wees en onvolledig toegerus vir dit wat vorentoe op jou wag. Jy sal ook nie geestelik bekwaam wees vir dit wat die Here deur jou wil doen nie. Stel jouself onvoorwaardelik tot die Here se beskikking as ‘n kanaal waardeur sy Gees kan werk.

 

11. Die Pelgrimsreis van God se Volk

Ons is almal op ‘n reis na die ewigheid. Israel se uittog uit Egipte kan as ‘n voorbeeld van hierdie pelgrimsreis geneem word. Hulle het op ‘n reis vertrek wat by die slag van die paaslam begin het, en wat hulle uiteindelik tot binne-in die Beloofde Land gevoer het. Slegs ‘n klein groepie van hulle het die geestelike lesse van heiligmaking en toewyding ter harte geneem wat die Here hulle op hierdie reis geleer het. Die groot meerderheid van die volk het ‘n mislukte geestelike lewe van val en opstaan gelei.

Israel se bevryding uit Egipte en hulle uittog uit die gebied van hulle sondige verlede om die Here te gaan dien, is ‘n tipe van die Nuwe Testamentiese redding van sondaars en die daaropvolgende afsondering van Christene om die Here sonder enige kompromie met die wêreld te dien. Die reis wat Israel van Egipte af na Kanaän moes onderneem, is ‘n tipe van die Nuwe Testamentiese weg van heiligmaking. Die geestelike hardheid van Israel en hulle herhaalde weiering om hulself aan die vormende hand van die Here te onderwerp, is ‘n tipe van die Nuwe Testamentiese Christene wat met hulle vleeslikheid en liefde vir die wêreld volhard, en daardeur nalaat om die heiligmaking in die vrees van die Here te volbring. Paulus sê die volgende oor Israel se tipologiese rol tydens hulle bevryding uit Egipte en reis deur die woestyn:

“Ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie… Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde [tipes] en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Kor. 10:1-6,11).

Ons moet beslis hierdie waarskuwings ter harte neem, veral in die lig daarvan dat so min Christene met volharding en oorgawe die weg van heiligmaking bewandel. Kom ons kyk met nuwe erns na die reis wat Israel onderneem het, en pas dit ook op onsself toe.

In Númeri 33:1-18 word daar 15 plekke in Israel se reis tot aan die grens van die Heilige Land genoem. Volgens die betekenisse van hierdie plekke se name verteenwoordig hulle almal belangrike stadiums in die geestelike pelgrimsreis wat God se volk moet volg.

Raämses (Donderslag of Losmaak van boosheid)

Die reis het by Raämses, binne-in Egipte begin. Hier waar Israel slawe van Farao was, het die Here hulle verlos. Die teken van die volk se verlossing was die slag van die paaslam en die bestryking van hulle deurposte met die bloed van die lam. Die Here het gesê: “As Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan” (Ex. 12:13). In die nag van Israel se bevryding het die doodsengel deur die hele Egipteland getrek om die eersgeborenes te tref. Net dié huise wat bloed aan die deurposte gehad het, is oorgeslaan en dus vrygespreek.

God se verlossingsplan begin by die slag van ‘n lam. Die paaslam wat in Egipte geslag is, is ‘n heenwysing na die Here Jesus as die vlekkelose Lam van God wat vir die sondes van die hele wêreld geslag sou word. Johannes die Doper het na Jesus gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Paulus het gesê: “…ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor. 5:7). “In hom het ons die verlossing deur sy bloed” (Ef. 1:7). Petrus het gesê: “Julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Die verheerlikte kerk sal die Here Jesus rondom die troon toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9).

Die slag van die Lam van God dui daarop dat Hy die doodstraf vir ons sondes moes uitdien. Jesaja sê: “Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom” (Jes. 53:5). Die betekenis van Raämses kom juis in hierdie opsig ter sprake: Donderslag is ‘n aanduiding van straf of oordeel, en Losmaak van boosheid dui op die verlossingswerk van die Lam. Hy maak ons bande los en bevry ons van die slawerny van die sonde waaruit ons self nie kan vrykom nie.

Verlos uit Farao se mag, het Israel daardie nag uit Egipte weggetrek na ‘n nuwe bestemming. Nadat ons uit die mag van Satan bevry en uit die duisternis oorgekom het tot die lig, begin ons met ‘n reis waarin die lig van die Here in ons lewe ál hoe helderder word tot die volle dag toe (Spr. 4:18). Dit is die pad van toenemende heiligmaking waarin ons voortdurend voor nuwe uitdagings te staan kom en sterker word in die Here. Ons verlossing is dus net die begin van ‘n lang reis van geestelike groei waarop ons moet volhard totdat al die wonderlike beloftes van die Here in ons lewe in vervulling gegaan het.

Sukkot  (Tente)

Die eerste plek waar Israel laer opgeslaan het, was by Sukkot. Dit beteken Tente. Hulle was nou pelgrims en tentbewoners op pad na hulle nuwe tuiste. Ná ons redding word ons ook van hierdie wêreld losgemaak om vreemdelinge en bywoners te word wat na ons ewige tuiste in die Godstad op pad is (1 Pet. 2:11). Ons is net tydelik in die wêreld, soos tentbewoners, want ons burgerskap is in die hemel. Soos Abraham moet ons nou reeds ‘n vergesig hê van die stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is (Heb. 11:9-10). Omdat ons net reisigers en verbygangers is, moet ons onsself nie in hierdie wêreld ingrawe asof ons vir altyd hier gaan bly nie. Ons moet ook nie skatte hier bymekaarmaak nie, maar eerder dáár waarheen ons op pad is.

Etam (Hulle eie krag)

By Etam het Israel van die reguit koers na Kanaän afgedraai en op die Rooi See afgepeil. Hulle het volgens eie insig opgetree en gedink dat hulle die regte ding doen. Dit was egter die begin van ‘n groot krisis op hulle reis. Jong Christene steun ook soms op hulle eie insig en probeer om die Here in die krag van die vlees te dien, en begaan dan groot oordeelsfoute en mislukkings. Hulle beland dan as gevolg hiervan in ‘n ernstige geestelike krisis.

Pi-Hágirot (Stem van uitredding)

Aan die rand van die Rooi See het die volk in groot benoudheid beland. Hulle was nog nie uit Egipte nie, en Farao se leërs het hulle agtervolg om hulle te vang en weer slawe van hulle te maak. Agter hulle kon hulle reeds die strydwaens sien aankom. Aan beide kante was die woestyn, en voor hulle die Rooi See wat die weg versper het. Groot benoudheid het Israel in hierdie woeste en verlate plek oorval, en hulle het met ‘n stem van uitredding tot die Here geroep. Hy het hulle hulpgeroep gehoor en die Rooi See oopgekloof sodat die volk veilig kon deurtrek. Toe Farao se leërs ook probeer deurtrek het, het die water teruggevloei en hulle het almal gesterf.

Dit is duidelik dat die meeste van die Israeliete nie regtig die simboliek van die slag van die paaslam verstaan het nie, en in hulle harte nie van die ou lewe verlos was nie. Dit is waarom die Here hulle laat begaan het toe hulle by Etam van koers af gedwaal het. Dit was nodig dat hulle in groot benoudheid gekom het, sodat hulle ernstig om uitredding tot Hom sou roep. Eers daarna sou hulle Egipte deur ‘n wonderwerk van God finaal kon verlaat.

In die Nuwe Testament bestaan daar ook ‘n soortgelyke situasie. Baie mense het net ‘n nominale kennis van die Lam van God wat vir ons sonde geslag is. Hulle bely dit met hulle lippe, maar hulle harte is onaangeraak daardeur. Hulle is ongeredde vormgodsdienstiges wat hulleself in die kerk tussen ander gelowiges bevind, maar in werklikheid is hulle nog in geestelike duisternis vasgevang. Sulke mense kom op een of ander wyse in groot benoudheid, sodat hulle ernstig om redding na die Here kan roep. Wanneer dit gebeur, doen Hy vir hulle die wonderwerk van wedergeboorte en uitredding uit die ou lewe.

Het jy al onder sonde-oortuiging gekom en besef dat jy ten spyte van jou uiterlike vertoon en vormgodsdiens op pad hel toe is? Jy moet by ‘n plek in jou lewe kom waar daar menslik gesproke geen uitkoms vir jou is nie. In hierdie doodloopstraat moet jy desperaat om hulp roep en sê: “Dit is verby met my! As die Here my nie nou red nie, stuur ek op gewisse verderf en verlorenheid af.” Dan sal die Here sy reddende regterhand na jou toe uitstrek, jou uit die kuil van vernietiging optrek en jou voete op ‘n rots stel. Hy sal jou gange vasmaak en ‘n nuwe lied in jou mond gee. Wanneer dít gebeur, sal jy wéét dat die Here jou siel gered het en sal jy ‘n duidelike getuienis van verlossing hê.

Mara (Bitterheid)

Nadat hulle deur die Rooi See was, het Israel drie dagreise ver die woestyn in getrek en by Mara laer opgeslaan. Hier was ‘n fontein met bitter water. Die volk het baie hieroor gemurmureer omdat hulle nie die bitter water kon drink nie. Die Here het Moses ‘n stuk hout gewys om in die water te gooi, waarna dit soet geword het. Hier het Moses ook aan die volk gesê dat as hulle getrou aan die Here bly, na sy stem luister en doen wat reg is in sy oë, die Here hulle gesond sou maak en geeneen van die siektes van Egipte op hulle sou lê nie.

Alle Christene gaan op die pad van die Here by Mara verby. Dit is die leerskool van geloofstoetse en beproewings. Dit is nie in rykdom en voorspoed dat jy aan die einde van jouself kom en leer om net op die Here te vertrou nie, maar by die bitter waters van Mara. Hier word jou karakter gevorm en jou geloof gelouter terwyl jy vir uitkoms en genesing op die Here wag. Petrus praat van die beproefdheid van ons geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat deur vuur gelouter word (1 Pet. 1:7). Wanneer alle ander dinge jou faal, word jy geleer om in naakte geloof vorentoe te gaan. Só word jou geloof getoets, opgebou en versterk. Hoe sal jy weet of jy ‘n sterk geloof het voordat dit aan ‘n strawwe toets onderwerp is?

Baie mense dop hierdie geloofstoetse en gee hulleself aan verbittering oor. Israel het by Mara hulle geestelike bankrotskap en gebrek aan insig getoon deur sommer gou teen God en ook teen Moses te murmureer. In die Nuwe Testament lees ons van mense wat op ‘n soortgelyke wyse in die genade van God veragter, terwyl daar ‘n wortel van bitterheid in hulle harte opskiet (Heb. 12:15). Hulle raak nie net teen omstandighede en teen ander mense verbitterd nie, maar ook teen die Here self. As gevolg hiervan verbeur hulle sy seën, val terug en beland in ‘n geestelike woestyn.

Die oplossing vir Mara se bitter water was ‘n stuk hout wat in opdrag van die Here daarin gegooi moes word. Ons bitter ondervindings en probleme moet ook net na die kruishout geneem word, waar daar in die Naam van die Here Jesus herstel en genesing is.

Elim (Boord of Paradys)

Elim was ‘n oase met 12 fonteine en 70 palmbome – ‘n ware paradys en rusplek. Die water was soet en die omstandighede aangenaam. Elim was maar drie ure se reis van Mara af. Wanneer die Here jou donker omstandighede beëindig, breek die lig soms skielik deur. Die storm bedaar en jy vaar rustige waters binne. In die geloofstryd en beproewings wat ons ervaar, gee die Here dikwels vir ons so ‘n aangename tyd van verposing, rus en herstel. Maak ten volle daarvan gebruik voordat jy weer verder op jou reis vertrek om die stryd van die geloof in ‘n bose wêreld voort te sit.

Die Skelfsee

Die Here laat sy volk na die Skelfsee teruggaan – dit is die Rooi See waardeur hulle kort tevore getrek het. Hulle moes weer aan die hopelose situasie dink waaruit die Here hulle gered het, en Hom opnuut vir die groot dade van sy verlossingswerk dank. Ons moet ook meermale na die kruis toe teruggaan en opnuut die Here dank dat Hy ons siele uit genade gered het. Ons moet terugdink aan daardie troebel waters waaruit Hy ons verlos het, en aan die ou lewe wat op ‘n gewisse dood afgestuur het. Dank die Here dat Hy jou verlos en jou naam in die boek van die lewe geskryf het (Luk. 10:20).

Sin (Drek)

In die woestyn Sin, waar Israel vervolgens laer opgeslaan het, het die manna vir die eerste keer geval. Dit was vir hulle ‘n belangrike leerskool van geloof. In ‘n woestyn waar daar geen kos was nie, moes hulle leer om die Here vir al hulle behoeftes te vertrou. Hulle moes ook leer dat dit ‘n daaglikse lewe van vertroue is omdat hulle elke dag, in die môre, vir daardie dag manna moes optel. Net op die sesde dag moes hulle ‘n dubbele porsie versamel om ook vir die Sabbat genoeg te hê.

Ons moet deur dieselfde geestelike leerskool gaan en die wêreld as drek beskou om Christus as wins te verkry. Ons is van Hom alleen afhanklik en Hy voorsien in elke behoefte van ons na die rykdom van sy genade. Die reën wat ons nodig het en die werk wat ons moet hê, is alles sake waarvoor ons Hom moet vertrou. Moenie sekulêr ingestel raak en alles wat jy kry as vanselfsprekend aanvaar nie. Bo alles moet ons begryp dat ons nie van brood alleen kan lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van die Here gaan. Dit is die brood van die lewe wat as hemelse manna ryklik aan ons geskenk word. Ons moet onsself elke dag hiermee versadig en ons geloofsband met die Gewer van alle goeie gawes versterk. As ons dit doen, sal ons vind dat die Here in die woestyn van hierdie wêreld talle seëninge oor ons uitstort en ons sal help om die droë laagte waardeur ons trek, in ‘n fonteinland te omskep. Wat ons van die Here ontvang, moet ons met ander deel.

Dofka (Aanklop of Uitdryf van boosheid)

Op hulle reis na Dofka toe het Israel vinnige vordering gemaak. In die woestyn Sin is hulle geloof versterk, en hulle het geleer om die Here vir hulle behoeftes te vertrou. By Dofka het die volk in gebed aan die hemelse deur geklop, ervaar hoedat die Here gebede beantwoord, en ook oorwinning oor hulle probleme behaal. Wanneer ons as Christene die krag van volhardende gebed ontdek, maak ons vinnige vordering in ons geestelike lewe, en behaal oorwinning oor boosheid en sonde.

Alus (Lêplek van die leeus)

By Alus het die volk van God terdeë ontdek dat hulle in ‘n stryd met God se vyande gewikkel is, en ten alle tye paraat vir moontlike aanvalle moet wees. Dit is die leerskool van geestelike oorlogvoering. Agter die vyandelike aanvalle was die duiwel wat soos ‘n brullende leeu rondloop. In hierdie geval het hy die magte van Amalek gebruik om Israel aan te val en mense dood te maak. Amalek se ruiters het die persone wat stadig gevorder en agter geraak het, ingehaal en om die lewe gebring. Hulle het dus binne-in die laer ingekom en die agterstes aangeval, wat vir hulle die maklikste teiken was.

Amalek is ‘n tipe van die duiwel wat God se volk van binne af aanval, daarom is hy ‘n voorstelling van die inwonende sondige natuur wat oorwin moet word. Farao is ‘n tipe van die duiwel wat ons van buite af aanval, wil oorheers, verslaaf en doodmaak. Nadat die Here vir Israel van Farao verlos en sy mag oor hulle gebreek het, moes hulle dringend ook oorwinning oor hulle ander vyand, Amalek, behaal.

In die Nuwe Testament is ons as gelowiges in dieselfde situasie. Nadat ‘n persoon van Satansmag bevry en gered is, het die duiwel nog steeds ‘n bondgenoot in sy lewe, naamlik sy ou, sondige natuur. Die duiwel werk dus van binne af deur die vlees om jou geestelik aan te val, lam te lê en onvrugbaar te maak. Ons moet ook teen hierdie vyand van binne oorwinning verkry as ons geestelik wil vorder.

Ráfidim (Rusplek)

Israel het by Ráfidim gekom waar die water uit die rots gevloei het. Hier is hulle innerlik verkwik, hulle het oorwinning oor Amalek behaal, en rus ná die vyandelike aanvalle verkry.

Ráfidim is ‘n belangrike leerskool van oorwinning oor die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede. Hierdie oorwinning begin by die rots. Paulus sê in 1 Korinthiërs 10:4 dat die gekliefde rots op Christus dui. Die stroom water dui op die uitstorting van die Heilige Gees nadat die Here Jesus se liggaam aan die kruis geklief is en Hy uit die dood opgestaan het. Hy nooi almal van ons om uit hierdie stroom te drink en geestelik verkwik te word: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39).

God het vir sy volk ‘n rots geklief en ‘n stroom water voorsien waaruit hulle kon drink. Hierna het daar ‘n groot wending in hulle stryd teen die vyand gekom en het hulle ‘n klinkende oorwinning behaal.

Die stryd teen Amalek was besonder hewig gewees. Wanneer Moses sy hande seënend omhoog gehou het, het Josua en sy manskappe vir Amalek teruggedryf. Wanneer Moses sy hande laat sak het, is Josua weer deur Amalek teruggedryf. Dit is ‘n tipiese situasie van val en opstaan. As ‘n oplossing hiervoor het Aäron en Hur Moses se hande omhoog gehou en is Amalek deur die skerpte van die swaard ‘n neerlaag toegedien. Aäron, die priester, is die verpersoonliking van gebed, terwyl Hur witheid, reinheid, of heiligheid beteken. Die stryd teen die vlees kan nie sonder voortdurende gebed en ‘n oorgawe tot heiligheid gewen word nie.

Deur die kruisdood van die Here Jesus en die vervulling met die Heilige Gees, kan ons oorwinning oor ons inwonende, sondige natuur behaal. Dit moet met aanhoudende gebed en ‘n heilige lewenswandel gepaard gaan. Hou aan totdat Amalek beslissend verslaan is. Hierna kan jy ook rus in die Here en in sy sterkte omdat die tweestryd tussen die Gees en die vlees verby is. Amalek sal weer probeer terugkom om die vlees te laat herleef, maar as jou verhouding met die Here reg is, sal hy nooit weer beheer oor jou kan verkry nie. Volhard net op die pad van gebed en heiligmaking.

Sinai (Wet van die Here)

Israel het die 50ste dag ná hulle uittog uit Egipte by Sinai aangekom en omtrent ‘n jaar lank hier vertoef. ‘n Totaal nuwe lewe het as volk van God op hulle gewag, en hiervoor moes nuwe lewensbeginsels by hulle ingeskerp word. Hulle moes die wet van die Here deeglik leer ken en nougeset daarvolgens lewe. Indien hulle al die geestelike lesse van geloof, gebed, oorwinning oor die mag van Satan en heiligmaking ter harte geneem het, sou Sinai vir hulle ‘n heerlike ondervinding gewees het. Met net geringe uitsonderings is die teendeel ongelukkig waar. Die meeste van hulle was vormgodsdienstige meelopers wie se harte nog by die vleispotte van Egipte was. Toe Moses té lank na die volk se sin op die berg gebly het om die wet van die Here te kry, het hulle ‘n goue kalf gemaak en voor dit rondgedans. Aan hierdie gedrog het hulle eer gebring en gesê dat hy hulle uit Egipteland uitgelei het. Dit is totaal ondenkbaar, maar dit hét nogtans gebeur. Dit is waarom die Here sê dat hierdie dinge as ‘n waarskuwing aan ons opgeteken is, op wie die eindes van die eeue gekom het. As ons in vormgodsdiens verval en die Here deur ons optrede smaad, sal sy toorn oor ons ontvlam. Ons kan nie voor afgode soos Mammon neerbuig en dink dat die Here daarmee tevrede moet wees nie.

Die geestelike betekenis van Sinai is dat die woord van die Here nie met ink nie, maar deur sy Gees op die tafels van ons harte geskryf moet word (2 Kor. 3:3). Ons moet in genade en kennis toeneem, sodat ons ‘n werkende kennis van die Woord van God het. In dié studie moet ons onsself verdiep nadat ons ‘n volle oorgawe gemaak het om met die Heilige Gees vervul te word (die Ráfidim-ondervinding). Of ons ‘n formele studie van die Bybel maak deur vir een of ander kursus in te skryf, en of ons dit informeel deur selfstudie doen, maak nie saak nie. Die feit is net dat ons ‘n sistematiese studie van die Woord van God móét maak, dan kan die Here ons ook gebruik. Het jy die Woord van die Here al bestudeer en in jou hart gebêre dat jy teen Hom nie sal sondig nie? Verkondig dit dan, sodat andere ook die weg na ware verlossing en heiligmaking kan vind.

Kibrot-Hattaäwa (Die graf van begeerlikhede)

Van Sinai af is daar net drie kampeerplekke tot aan die grens van Kanaän. Die eerste een daarvan is Kibrot-Hattaäwa. Indien die volk die geestelike vorming ondergaan het wat die Here vir hulle bedoel het, sou hulle teen dié tyd verlos gewees het van die begeerlikhede van die ou lewe. Omdat dit weens hulle vormgodsdiens nie die geval was nie, het hulle vleeslike begeerlikhede nog steeds hoogty gevier. By hierdie plek het hulle oor die manna gekla en gesê dat hulle vleis wou hê om te eet. Hulle het hulleself só aan die kwartels vergryp wat die Here gestuur het, dat die vleis nog tussen hulle tande was toe die oordele van God hulle getref het.

Vir diegene wat die weg van verlossing en heiligmaking reg bewandel, kom daar ‘n tyd wanneer die ou lewe wat hulle soos ‘n skaduwee agtervolg het, dood en begrawe is. Jy is dood vir die begeerlikhede van die vlees omdat jy dit afgesterf het. Jy het die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede van die ou lewe ontvlug en jou met ‘n nuwe lewe van heiligheid en godsvrug beklee.

Háserot (Voorhof)

Dit is die voorhof-lewe. Bevry van die wêreld en sy begeerlikhede, die sonde en die vlees, het jy net een begeerte en dit is om die Here elke dag te dien. Dan sal jy kan sê dat ‘n dag in die Here se voorhowe beter as ‘n duisend dae in die wêreld is (Ps. 84:11). Dawid het gesê: “Een ding het ek van die Here begeer, en dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel” (Ps. 27:4). Só ‘n persoon het van die wêreld afskeid geneem en hou hom net met die dinge van die Here besig. Dit is die belangrikste saak in sy lewe.

Kades (Heiligheid)

Die laaste laer was Kades (Num. 13:26), wat ook Ritma genoem word. Hier behoort die volk ná sy 18 maande lange pelgrimsreis en die geestelike leerskool wat daarmee gepaard gegaan het, heilig verklaar te kon word en dus waardig om die Beloofde Land in besit te neem. Hulle hardheid van hart, ongeloof en gebrek aan belangstelling in die dinge van die Here het hulle egter onbevoeg gemaak om hulle geestelike erfenis in besit te neem. Tien van die twaalf verspieders in Kanaän het dieselfde ongeloof geopenbaar en wou nie die uitdaging om oor te trek, aanvaar nie. Josua en Kaleb se minderheidsverslag is verwerp, en die hele volk is terug woestyn toe waar 38 jaar se sinnelose swerftogte op hulle gewag het totdat die ongelowige geslag wat God mishaag het, in hulle omswerwinge gesterf het.

Hoe sien jou geestelike lewe in hierdie stadium daar uit? Het jy ‘n gelouterde geloof, lei jy ‘n lewe van gebed, het jy oorwinning oor die sonde en begeerlikhede van die vlees behaal, is jy met die Heilige Gees vervul, het jy ‘n werkende kennis van die Woord van die Here, is jou behae in die dinge van die Here, en dien jy Hom van harte al die dae van jou lewe? Dan sal jy deur Hom waardig verklaar word om jou geestelike erfenis in besit te neem en kragtig in sy diens gebruik te word. Jy sal nie op die Here se weegskaal té lig bevind word nie.

As jy jouself onder die vormgodsdienstiges, die wêreldgesindes, die vreesagtiges en die teruggevallenes bevind, dan het jy dringend ‘n saak om met die Here uit te maak. Hy het geen behae in die Israeliete gehad wat in hierdie kategorie geval het nie – al was hulle ook uiterlik besnyde verbondskinders – maar het hulle in die woestyn neergeslaan. Alleenlik ‘n veranderde hart waarin sy Gees woon, is vir die Here aanneemlik. Vertrou Hom vandag nog hiervoor.

Die eindtydse Christendom

Die waarskuwings wat uit Israel se rampspoedige geestelike doodsheid en hulle vormgodsdienstige verhouding met die Here voortspruit, word pertinent ook aan die adres van die eindtydse Christendom gerig – ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Dit is van die uiterste belang dat ons hierop sal ag slaan en onsself geestelik ondersoek of ons in die geloof is (2 Kor. 13:5). Indien ons nie die geloofstoets slaag nie, is ons ten spyte van ons doop, aanneming en kerkverband nog steeds verlore sondaars wat op pad hel toe is.

Die uiterlike kriteria van Israel se volkslidmaatskap, naamlik afkoms, besnydenis en die bywoning van godsdienstige byeenkomste waar God se woord verkondig is, was nie genoeg om ook geestelik gesproke van hulle lede van God se volk te maak nie. Hulle moes gelowige harte hê, want sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Heb. 11: 6). Ons word uitdruklik en ernstig in die lig van Israel se ongeloof en vormgodsdienstigheid gewaarsku dat ons gaan agterbly as ons saak met die Here nie reg is nie:

“Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle: maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie” (Heb. 4:1-2).

Moet dus nie allerlei oorhaastige en ongegronde gevolgtrekkings maak dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het, en dat dit jou in ‘n ewige verbondsverhouding met die Here plaas nie. God se norm vir gereddes is nie verbondstekens nie, maar geloof in sy Seun, Jesus Christus, wat na ‘n nuwe lewe lei:

“Want in Christus Jesus het nóg die besnydenis nóg die onbesnedenheid [die teenwoordigheid of afwesigheid van verbondstekens] enige krag, maar ‘n nuwe skepsel [wedergeboorte]. En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” (Gal. 6:15-16).

Die Israel van God het gelowige harte waarin Hy woon, en is dus in hulle harte besny. Daar is wél plek vir uiterlike verbondstekens, solank dit net ‘n simbool van ‘n innerlike, geestelike werklikheid is. Die Here moet deur die wedergeboorte van jou ‘n nuwe mens maak, soos wat Hy aan ‘n Israelse skrifgeleerde verduidelik het (Joh. 3:1-21). Nikodémus se verbondsteken sonder wedergeboorte sou hom nie help om in die hemel uit te kom nie. Net so min as wat die Here in die geestelik ongeredde Israelse verbondskinders behae gehad het, het Hy behae in die ongeredde kerklidmate van ons tyd. Hulle sal nie in sy rus ingaan nie, maar in die ‘woestyn’ van hierdie verdorwe wêreld omkom.

Geloof is nie net ‘n verstandelike aanname van die feite oor Jesus Christus se genadewerk vir sondaars nie. Kopbekerings lei nie na ‘n nuwe lewe nie. Die geloofsaanvaarding van die Here Jesus as jou Verlosser vind op ‘n geestelike vlak plaas. Dit gaan onder die leiding van die Heilige Gees met ‘n sterk besef van jou sondigheid en verlorenheid gepaard. Na aanleiding hiervan bely en laat staan jy jou sondes en aanvaar die vergifnis en vryspraak van Jesus Christus in die geloof (1 Joh. 1:8-9; Rom. 3:23-25).

Gereinig deur die bloed van die Lam en verlos uit die slawerny van sonde, begin jy met ‘n geestelike pelgrimsreis waarin jy as ‘n verloste opgroei in die allerheiligste geloof. Jou geloof moet aanhoudend sterker word sodat dit nie in die krisisuur van beproewings sal wankel nie. Die Here Jesus moes dikwels na sy dissipels as kleingelowiges of selfs as ongelowiges verwys (Matt. 14:31; 16:8; Mark. 4:40). Dit was ‘n baie ernstige aanklag teen hulle. Moenie in die babaskoene van jou geloofslewe vasgekluister bly en daarby berus nie, maar groei op tot die volwasse man of vrou in Christus (Ef. 4:13-14). Word geestelik sterk en maak vordering op die pad van heiligmaking.

Israel het as gevolg van hulle gebrek aan geloofsvertroue in die Here beskaamd gestaan. Hulle moes op die grens van die Beloofde Land weens ongeloof omdraai omdat hulle geestelik nie waardig was om hulle erfdeel in besit te neem nie. Waar staan jy in jou geloofslewe? Het jy jou basiese opleiding en geloofsvorming suksesvol ondergaan en kan die Here jou gebruik om siele te wen en stryd teen die magte van die duisternis te voer? Indien nie, dan moet jy as ‘n saak van erns seker maak dat jou lewe op die Rots Jesus Christus gebou is. Daarna moet jy “kragtig word in die Here en in die krag van sy sterkte” sodat jy staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-11).

Sonder die krag van die Heilige Gees sal jy nie na geestelike volwassenheid kan opgroei nie en ook nie die goeie stryd van die geloof met sukses kan stry nie (1 Tim. 6:12).

 

12. Heiligmaking en die Wederkoms

Heiligmaking bepaal nie net die aard van ons verhouding met die Here hier op aarde nie, maar dit moet uitdruklik ook met die oog op die wederkoms van Jesus Christus beoefen word. Heiligmaking en die wederkoms word so dikwels saam genoem dat dit as tweelingwaarhede beskryf kan word. Die rede hiervoor is omdat die ware kerk die bruid van die Here Jesus is, wat by sy wederkoms sonder vlek of rimpel of iets dergliks voor Hom gestel moet word. Ons moet deur ‘n proses van heiligmaking op die ontmoeting en vereniging met die hemelse Bruidegom voorberei word.

Dit is belangrik dat die kerk van Christus ‘n duidelike roepingsbewustheid én ook ‘n duidelike bestemmingsbewustheid moet hê. Paulus sê dat ons ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus het (Fil. 3:14). In die huidige bedeling is ons geroep om getuies van Jesus te wees in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Ons is dus ambassadeurs vir Christus in ‘n vreemde koninkryk. As geroepe heiliges moet ons waardige verteenwoordigers van die koninkryk van die hemel wees “sodat [ons] onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie [ons] skyn soos ligte in die wêreld” (Fil. 2:15).

Dwarsdeur ons aardse lewe en die taak wat ons hier het om uit te voer, moet ons as burgers van ‘n hemelse koninkryk deur die vooruitsig op ons bestemming in die hemel tot heiligmaking gemotiveer word. Dit moet aan ons moed en deursettingsvermoë gee terwyl ons as vreemdelinge ons opdrag in hierdie goddelose wêreld uitvoer:

“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21).

‘n Reinigende hoop

Ons moet onsself reinig in voorbereiding daarop om in die hemel in ‘n noue assosiasie met die Here Jesus te leef. Ons sal nét so ‘n onverganklike opstandingsliggaam soos Hy hê en in sy volmaakte, heilige teenwoordigheid verkeer:

“Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:2-3).

In die lig daarvan dat ons vir altyd in die Here Jesus se heilige teenwoordigheid gaan wees, moet ons nou reeds leer om geestelik in sy teenwoordigheid te leef, Hom innig lief te hê soos ‘n bruid wat na haar bruidegom verlang, en niks te doen wat sy Heilige Gees sal bedroef nie. Die hoop dat ons Hom sal sien en by Hom sal wees, is ‘n reinigende hoop. Ons moet nou daarop voorberei word om aan sy sy gestel te word. Ons sal nie in status aan Jesus Christus gelyk wees nie, omdat Hy die Hoof van die gemeente bly, maar ons sal dieselfde verheerlikte liggaam hê en as sy bruid ten nouste aan Hom verbonde wees.

Die proses van reiniging veronderstel morele én leerstellige reinheid. Ons moet moreel rein en heilig leef, en teen alle vorms van besoedeling van ons liggaam waak (vgl. 2 Kor. 7:1; Rom. 12:1). Ons moet egter ook leerstellig getrou aan Christus bly deurdat ons teen al die geestelike dwalings en misleiding van Satan sal waak. Paulus verwys hierna as hy aan die gemeente sê:

“Ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:2-4).

Sommige predikers verkondig met verdigte fabels ‘n ander Jesus deurdat hulle ‘n vervalste of eensydige voorstelling van Jesus gee deur bv. die kruisboodskap of sy godheid te verswyg en net op sy wonderwerke te konsentreer. Dit word gedoen in samewerking met ‘n ander gees wat van die duiwel af uitgaan en daarop uit is om mense deur tekens en vreemde manifestasies soos val in die gees op ‘n dwaalspoor te plaas. Die valse leraars verkondig ook ‘n ander evangelie waarin die eis van wedergeboorte nie beklemtoon word nie. Het jy dalk hierdeur in Satan se strikke van misleiding beland? Vlug dan na die ware Here Jesus vir vergifnis, verlossing en reiniging deur sy bloed (2 Tim. 2:26). Sy Gees sal jou van hierdie sondes oortuig.

Waaksaamheid

Wat moet ons in die donker en goddelose wêreld doen om in afwagting op die koms van die Meester rein en heilig te lewe? Ons moet geestelik wakker bly en nie in passiwiteit verval nie, met toewyding die werk doen wat die Here aan ons gegee het, en voortdurend teen die vyand van ons siele waak, omdat hy ons geestelik wil beroof en ontrou aan die Here maak. Die duiwel is ‘n meester in die kuns van misleiding  en weet hoe om mense op ‘n dwaalspoor te plaas. Jesus het gesê:

“Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos ‘n man wat op reis is, wat sy huis agterlaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:33-37; vgl. Matt. 25:13).

In hierdie kort gelykenis word van ‘n huisheer vertel wat op reis gegaan het. Dit dui op die hemelvaart van Jesus Christus. Voordat Hy vertrek het, het Hy aan sy diensknegte hulle werk gegee en ook die opdrag om te waak. Ons het dus werk om tydens die afwesigheid van die Here te doen – die hele wêreld moet geëvangeliseer word. Ook moet ons voortdurend waak teen die vyand wat wil insluip om te steel en te slag en te verwoes (Joh. 10:10). Die werk van die Here moet goed gedoen word en alles moet in orde wees, want enige oomblik kan Hy terugkom en van sy diensknegte rekenskap eis. Wat sal Hy doen as Hy hulle aan die slaap kry – nie besig om te werk nie en ook nie besig om te waak nie? Hy sal hulle as slegte diensknegte uitwerp en al hulle loon wegneem!

Die begrip “waak” beteken dat iemand wakker moet wees. Sy oë moet oop wees en hy moet aktief met iets besig wees. Hierdie begrip het twee toepassings: eerstens beteken dit dat ons geestelike oë oop moet wees, met ander woorde ons moet bepaalde geestelike perspektiewe hê. Die Bybel noem drie hiervan. Ons moet ‘n opwaartse perspektief hê deurdat ons ons oë gevestig hou op Jesus wat die Leidsman en Voleinder van ons geloof is (Heb. 12:2). Ons uitsig op Hom moet nie vertroebel raak nie, en ons moet enige tyd sy wederkoms verwag sodat ons geloof kan oorgaan in aanskoue.

Hierbenewens moet ons ‘n inwaartse perspektief hê deurdat ons onsself gedurig sal ondersoek of daar nie suurdeeg van sonde in ons lewe is nie. Ons moet die Here vra om ons harte en gedagtes te toets en te kyk of daar nie by ons ‘n weg van smarte is nie (Ps. 139:23-24). ‘n Weg van smarte is weg van sonde – dalk heimlike sondes wat ander mense nie eers van weet nie.

Verder moet ons ‘n uitwaartse perspektief hê om te kan sien dat die oeslande wit is en die arbeiders min (Matt. 9:37). Ons moet dus mense se geestelike behoeftes kan raaksien en iets daaraan doen. ‘n Perspektief wat ons as Christene nie mag hê nie, is ‘n terugwaartse een. Ons moet die dinge wat agter ons is, vergeet en ons uitstrek na wat voor is (Fil. 3:14). Ons moet nie terugkyk en altyd ou koeie uit die sloot grawe nie. Dinge wat vergewe is, moet ook vergeet word.

‘n Tweede betekenis van die opdrag om te waak is dat ons teen die vyand en sy listige aanvalle moet waak. Die deurwagter moet op die uitkyk vir onwelkome besoekers wees en nie sommer die deur vir enigiemand oopmaak nie. Bewaar en bewaak jy jou hart teen bose suggesties en onrein gedagtes wat van die duiwel af kom?

Die Here Jesus wil hê dat ons in voorbereiding op sy skielike koms vir sy bruidsgemeente waaksaam en biddend sal wees: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom [dit is die verdrukking onder die bewind van die Antichris] te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Hy waarsku ernstig dat ons harte nie deur swelgery, dronkenskap en die sorge van die lewe beswaar moet word nie (Luk. 21:34). Die ongereddes se harte sal beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat in die groot verdrukking oor die wêreld sal kom (Luk. 21:25-26), maar ware Christene se geloof en toekomsverwagting behoort sterk te wees sodat dit hulle van sulke paniekreaksies sal vrywaar (Luk. 21:28).

Mense wat nie in afwagting op die wederkoms heilig leef nie, begin weer met wêreldse genietinge en laat hulle ook deur die sorge van die lewe geestelik aftrek. Hulle koester nie meer die salige hoop op die wederkoms nie (Titus 2:13). Die Here Jesus waarsku ons ernstig teen hierdie gevaarlike tendens van afvalligheid wat voortvloei uit die idee dat Hy dalk nie gou gaan kom nie:

“Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matt. 24:45-51).

Dit is uit hierdie gedeelte duidelik dat die slegte, onheilige dienskneg se probleme begin het toe hy gesê het: “My heer talm om te kom.” Hy het sy wederkomsverwagting verloor, en daarmee saam sy motivering om heilig te leef en sy sake in orde te hou. Hy het ‘n permissiewe, wêreldse lewe begin lei, partytjies bygewoon waar drank gebruik word, en lustig daaraan meegedoen. Ook het hy sy medediensknegte begin slaan. In plaas daarvan dat hy aan hulle geestelike voedsel voorsit en hulle tot diensbaarheid en heiligheid aanmoedig, het hy broedertwiste op tou gesit. Die gruwelikste dinge word deur só ‘n vleeslike Christen oor ander Christene gesê wat nie doen en glo presies soos wat hy aan hulle voorskryf nie. Hy verhef sy eie opinie tot die enigste norm van die waarheid en tree arrogant en veroordelend teenoor andere op. In die proses doen hy vernietigingswerk in die koninkryk van God, en leef glad nie in die lig van die naderende wederkoms nie. Hy kan ernstige probleme verwag wanneer die Here kom.

Die getroue dienskneg wat weet dat sy Heer enige tyd kan kom en van hom rekenskap sal opeis oor wat hy gedoen het, vrees die Here, hy is nederig in sy lewenshouding, hy werk hard en gee aan sy medegelowiges hulle voedsel op tyd. Hy sal lof van die Here ontvang.

Rekenskap voor die regterstoel

Die wederkomsbelofte konfronteer ons ook met die feit van rekenskap wat ons voor die regterstoel van Christus oor ons lewe sal moet gee. Paulus sê aan die Christene in Rome:

“Waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word… So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:10,12).

By die regterstoel sal alle Christene se lewenswandel ná bekering in oënskou geneem en beoordeel word. Dit sluit die goeie én nuttelose werke in wat hulle gedoen het:

“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10).

In die lig van die afspraak wat alle gelowiges voor die regterstoel het, moet ons nougeset sorg dra dat ons heilig leef en werke doen wat by die bekering pas. Ons behoort aan die Here en Hy het aan ons werk gegee om tydens sy fisiese afwesigheid op aarde te doen. “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Fil. 2:10).

Ons lees in 1 Korinthiërs 3:9-15 dat sommige Christene se werke soos hout, hooi en stoppels sal wees wat verbrand sal word, en dat hulle met leë hande voor die Here sal verskyn. Dit beteken dat hulle niks gedoen het wat ewigheidswaarde het nie. Hulle lewe ná bekering het geen bydrae tot die uitbreiding van God se koninkryk op aarde gelewer nie. Hulle was marginale Christene wat gered sal word asof deur vuur heen. Die ander Christene wat met goud, silwer en kosbare stene op die fondament Jesus Christus gebou het, sal loon ontvang. Dit is waarna ons moet streef.

Die gelykenis van die ponde in Lukas 19:11-27 beklemtoon dieselfde beginsel. Die man van hoë geboorte wat op ‘n reis na ‘n ver land gegaan het, dui op die Here Jesus en sy hemelvaart. Voordat Hy vertrek het, het Hy aan elkeen van sy diensknegte ‘n pond gegee waarmee hulle moes handel dryf en die sake van sy koninkryk bevorder. Hierdie pond dui op die instaatstellende krag van die Heilige Gees. Die diensknegte moes dit gebruik en sy belange op aarde daarmee uitbrei. Wanneer Hy as Koning van die konings terugkom, sal Hy heel eerste sy diensknegte voor die regterstoel daag om al hulle werke in oënskou te neem en hulle daarvoor te beloon:

“En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het” (Luk. 19:15).

Aan die een wat met sy pond tien ponde verdien het, sal die Here by sy koms sê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19:17). Die een wat sy pond gebêre en niks daarmee gedoen het nie, se geld sal van hom af weggeneem word omdat hy ‘n mislukking was.

Is jy geheilig – dit beteken gereinig en afgesonder vir die diens van die Here? Dan sal jy jou werk doen en God in Gees en waarheid dien. As jy in die vlees is, kan jy God nie behaag nie. Onthou dat die Here ook jou werke aan ‘n vuurproef sal onderwerp wanneer Hy kom, en Hy kom gou! Dan sal elkeen sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang (1 Kor. 3:8). Die volgende krone sal aan oorwinnaars toegeken word:

Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewe. Die wedloop van die lewe waarin ons is, word met dié van ‘n atleet vergelyk (1 Kor. 9:24-27). Atlete sorg dat hulle gesond bly, hulle rook of drink nie en eet reg. In die wedloop van die lewe moet ons ook geestelik gevoed word en ons van alle skadelike (sondige) gewoontes weerhou wat ons vordering kan vertraag (Heb. 12:1). Toewyding van hierdie aard gaan met hartsreiniging en die vervulling met die Heilige Gees gepaard. ‘n Lewe van heiligheid en diensbaarheid vereis selfdissipline, daarom oefen ek myself in die godsaligheid (1 Tim. 4:7) en kasty my liggaam om dit diensbaar te maak (1 Kor. 9:27). Hiervoor sal ek ‘n onverwelklike kroon ontvang – nie, soos die atlete, net ‘n verwelklike lourierkrans en ‘n kort oomblik van glorie nie.

Die kroon van roem vir sielewenners. Die groot taak wat Christus aan sy dissipels opgedra het, is dié van wêreldevangelisasie. Ons is almal gestuurdes (Joh. 20:21; Mark. 16:15; Hand. 1:8). Vir diegene wat ander mense na Christus toe lei, word die kroon van roem beloof (1 Thess. 2:19). Dit is ‘n hoë roeping in die koninkryk van die hemel, daarom word sielewenners met helder skynende sterre vergelyk (Dan. 12:3). Hulle word ook, uit God se oogpunt, as wyse mense beskryf omdat hulle verlore siele gehelp het om gered te word (Spr. 11:30).

Die kroon van heerlikheid vir getroue herders. Die geestelike versorging en opbouing van die gemeente is ‘n baie belangrike aspek van Christelike dienswerk wat deur die Here self bepaal is. As ‘n herder dit nougeset doen, sal die Here aan hom die kroon van heerlikheid gee (1 Pet. 5:2-4). Weens die groot verval van die laaste dae het getroue en bekwame herders wat die woord van die waarheid reg sny, baie skaars geword (vgl. 2 Tim. 4:2-4; 2 Pet. 2:1-2). Die kroon vir getroue herders kan ook toegeken word aan enigeen wat verantwoordelikheid vir die versorging en geestelike opbouing van ander gehad het.

Die kroon van die lewe vir Christen-martelare. Aan elkeen wat sy lewe ter wille van sy geloof aflê, word die kroon van die lewe beloof (Op. 2:10). Deur die eeue heen was daar getroue diensknegte van die Here Jesus wat bereid was om ten koste van hulle veiligheid, hulle werk, hulle gesinne, en selfs hulle eie lewe, die vlam van geloof in ‘n vyandige wêreld omhoog te hou (Luk. 10:3; Joh. 16:33). By die kategorie van martelare is ook ingesluit diegene wat ‘n swaar kruis van beproewing in hulle lewe moes dra. Volgens Jakobus 1:12 sal hulle beloon word as hulle getrou bly.

Die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefhet. Om die Here se koms lief te hê, vereis ‘n ingesteldheid op dinge met ewigheidswaarde. Jy moet skatte in die hemel bymekaarmaak waar mot of roes nie verniel en diewe nie inbreek en steel nie. Paulus het die goeie stryd van die geloof gestry terwyl hy die koninkryk van Christus in ‘n heidenwêreld gevestig het. Hy het uitgesien na die kroon wat die regverdige Regter hom hiervoor sal gee (2 Tim. 4:7-8).

Onberispelik in heiligheid

Paulus lê sterk klem op die feit dat ons by die wederkoms van Jesus Christus onberispelik in heiligheid moet wees:

“Onthou julle van elke vorm van kwaad. En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:22-24).

In die lig hiervan moet ons waardig wandel voor God wat ons tot sy koninkryk en heerlikheid roep (1 Thess. 2:12). Paulus benadruk die feit dat heiligmaking ‘n werk is wat die Here vir ons doen, maar ons moet onsself hieraan onderwerp en saamwerk deur die heiligmaking in die vrees van God te volbring. Die Here Jesus is ons Heiligmaking en ons moet Hom hiervoor vertrou:

“Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem” (1 Kor. 1:30-31).

Die Here Jesus het ons nie net van ons sonde gered nie, maar Hy wil ons ook heilig sodat ons sonder vlek of rimpel voor Hom gestel kan word in heerlikheid. Dit is alleen Hy wat ons só kan heilig en waardig maak dat ons sonder gebrek voor Hom gestel kan word. Dit sal egter nie gebeur as ons passief daarvoor sit en wag nie. Ons moet waak en bid sodat ons waardig geag kan word om in heerlikheid voor Hom gestel te word. Wanneer ons bid, dan leer die Heilige Gees ons om nou reeds van alle ondeug en boosheid in ons lewe afstand te doen. In die lig van die verganklike wêreld waarin ons is, moet ons altyd heiligmaking en godvrugtigheid nastreef:

“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas… Daarom… beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Pet. 3:11-12,14).

Sorg dat jy in ‘n rein toestand bly en voortdurend deur die bloed van die Lam gereinig word. Bely onmiddellik enige sonde wat jy gedoen het, sodat daar nie oor tyd heen ‘n skeidsmuur van sonde tussen jou en die Here Jesus opgebou word nie. Wandel in die lig en bied ten bloede toe weerstand teen die sonde:

“As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons [voortdurend] van alle sonde” (1 Joh. 1:7).

Vertrou die Here om jou staande te hou, terwyl jy as ‘n medewerker van God ook jou volle samewerking gee. Jesus sê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie” (Joh. 15: 4). In sy sendbrief sê Johannes: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Joh. 2:28).

Ons kan, soos die verlore seun, ons gemeenskap met die Vader eensydig verbreek. Moet dit nie doen en jouself met baie smarte deurboor nie! Jy kán weer herstel word, maar jy sal jou sondes en ontrouheid met ‘n gebroke hart moet bely.

Bly liewer ten alle tye in die Here en gaan voort om veel vrug te dra. Onderwerp jou aan die hand van die hemelse Landbouer wat jou wil snoei en skoonmaak sodat jy meer vrug kan dra. Hy vermaan en tugtig jou om jou sy heiligheid deelagtig te maak. As jy getrou aan Hom bly, sal daar nie ‘n knaende vrees diep binne-in jou wees dat jy dalk onwaardig sal wees om in sy heilige teenwoordigheid gestel te word nie. Doen jou plig, en die Here sal sy deel beslis nakom:

“Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag… Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid” (Judas 1:20-21, 24-25).

Maak soos die wyse maagde seker dat jou lamp vol van die olie van die Heilige Gees is (Matt. 25:1-13). Dit is ‘n uitbeelding van die Geesvervulde lewe. ‘n Rein lewe en die salwing met die Heilige Gees is God se standaard van waardigheid: “Laat jou klere altyd wit wees, en laat olie op jou hoof nie ontbreek nie” (Pred. 9:8).

Die bruilofskleed

Die bruidsgemeente van Christus gaan tydens haar ontmoeting met die hemelse Bruidegom met feesklere beklee wees. Daar is ‘n duidelike beskrywing van ‘n bruilofskleed in die Bybel:

“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8).

Dit is duidelik dat die bruilofskleed nie die kleed van geregtigheid is nie. By bekering word ons besoedelde kleed van sonde weggeneem en word die Here Jesus se kleed van geregtigheid aan ons gegee. Dit is toegerekende geregtigheid. Ons ontvang dit in die geloof, en werke het niks daarmee te doen nie. Dit staan ook as die onderpand van die geloof bekend (Ef. 1:13-14).

Die bruilofskleed waarna in Openbaring 19 verwys word, lê egter op die vlak van meewerkende geregtigheid. Hierby is werke duidelik ter sprake, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Die heiliges is dié Christene wat onder die krag en leiding van die Heilge Gees werke doen wat by die bekering pas. Dit is die goud, silwer en kosbare stene waarmee gelowiges volgens 1 Korinthiërs 3:10-12 op die fondament Jesus Christus moet bou.

Die bruilofskleed is dus soos ‘n huweliksverhouding – ons moet daaraan werk. Hierdie kleed moet nie met sonde bevlek word nie, en dit moet ook nie rimpels of kreukels hê omdat dit opgevou en iewers weggebêre is nie. Onthou net dat die werk wat jy daaraan doen, slegs deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees kan geskied. Dit is met ander woorde nie dit wat jy vír die Here doen wat tel nie, maar dit wat Hy déúr jou doen. Dit is waarom dit aan die vrou van die Lam “gegee” is om bekleed te wees met rein en blink fyn linne. Soos die diensknegte wat die ponde ontvang het, is die bruid nie ‘n passiewe ontvanger van die krag en genade wat sy gekry het nie. Sy moet dit gebruik deur haarself aktief aan die Here diensbaar te stel.

‘n Mens kan meer of minder heilig wees, net soos wat jy ook meer of minder vrug in die koninkryk kan dra. Sommiges dra dertigvoudig vrug, ander sestigvoudig en ander honderdvouding. Die een verdien tien ponde wins met sy pond, die ander een vyf en ‘n derde een niks nie. Die vraag is: waar staan jy met betrekking tot heiligmaking? Is die eie-ek gekruisig en het die Heilige Gees volle beheer oor jou lewe? Indien wel, dan sal jy veel vrug dra en sal jou bruilofskleed ook tot eer van die Here ryklik met gouddraad geborduur wees. Maak baie seker dat jy ‘n lid van die verheerlikte bruidsgemeente is wat spoedig aan die Here Jesus se sy sal staan:

“Die koningin staan aan U regterhand in goud van Ofir… Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei… Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in” (Ps. 45:10,14-16).

Met die oog op die heerlike toekoms wat op ons wag, moet ons alles in die stryd werp om die Here te behaag en heilig te lewe. Moet dit nie as ‘n onbereikbare ideaal beskou nie, want Hy help jou om dit te kan verkry. Jy sal nie nou ‘n standaard van volmaaktheid kan bereik nie, maar jy moet jouself nogtans daarvoor beywer. Paulus sê:

“Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is” (Fil. 3:12).

Daar moet merkbare vooruitgang in jou geestelike lewe wees. Die laaste opdrag van die Here Jesus in die Bybel handel oor voortgesette geestelike groei en heiligmaking. Hy koppel dit aan ‘n belofte van loon tydens sy wederkoms:

“…laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12).

Maranata!

Watchman Nee 88