Print

Pinksterboodskappe

Written by Prof Johan Malan.

Hierdie is ‘n reeks van tien pinksterboodskappe wat die klem baie sterk op die diep geestelike betekenis van dié fees op die Christelike kalender laat val. Die volgende vrae word in die boodskappe beantwoord:

Wat behels die pinksterbelofte alles?
  • Is jy toegerus met krag uit die hoogte?
  • Waarom ontbreek die pinksterseën in so baie Christene se lewens?
  • Hoe staan hierdie krag in verband met geestelike weerbaarheid?
  • Waarvoor wil die Heilige Gees jou toerus?
  • Is jy gereed om voor die regterstoel van Christus te verskyn?
  • Wat is die gevolge van geestelike nalatigheid?

 

Inhoud

1. Die Pinksterfees

2. Krag uit die Hoogte

3. Vervul met God se Liefde

4. Volharding van die Heiliges

5. Geestelike Oorlogvoering

6. Oorwinning in die Stryd

7. Die Regte Profetiese Perspektief

8. Rekenskap Voor die Regterstoel

9. Verlossing aan die Kruis

10. Bruilof van die Lam

 

1. Die Pinksterfees

Gebed: Ons dank U, o Here, vir nóg ‘n geleentheid wat ons het om die Pinkstergebeure van die eerste eeu te herdenk, en ook opnuut in ons eie lewe as ‘n werklikheid te ervaar. Ons aanbid U as die onveranderlike God wat dieselfde is gister, en vandag en tot in ewigheid. Dank U dat die belofte van die volheid van die Heilige Gees nie net vir daardie vroeë dissipels bedoel was nie, maar vir alle ware Christene deur die eeue heen. In hierdie tyd van groot afvalligheid het ons soveel te meer nodig om met u Heilige Gees vervul te word – vir die eerste keer of by hernuwing. Hoe sal ons ooit kan wandel deur die Gees as Hy nog nie volle beheer oor ons lewe verkry het nie? Hoe kan Hy ons Trooster en Leidsman wees as die ongekruisigde vlees nog in ons harte heers en die Gees teëstaan? Hoe kan Hy ons in die hele waarheid lei as ons nog nie die oue mens afgelê en die Gees van heiligheid toegelaat het om ons met die nuwe mens te beklee nie? Soos die dissipels van ouds wil ons in hierdie dae ‘n volle oorgawe maak en op U wag totdat U ons met u Heilige Gees vervul het. Maak ons bereid om van onsself en van wêreldse begeerlikhede leeggemaak te word, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God. Ons vra dit om Jesus ontwil, amen.

Die vroegste ontstaan van die pinksterfees, in ‘n profetiese vorm, was toe dit deel was van Israel se sewe groot feeste wat volgens Levitikus 23 jaarliks gevier is. In die Nuwe Testamentiese vervulling van hierdie feeste kan ons die heilsweg volg wat by die kruis en die eerste reiniging van ons sonde begin, na die opstandingslewe en die vervulling met die Heilige Gees voortgaan, en daarna deur die lang pad van wêreldevangelisasie tot aan die einde van die kerkbedeling lei. Hierna volg die finale insameling van die oes en die vestiging van die Messias se duisendjarige vrederyk op aarde.

Die eerste vier feeste, van die pasga af tot by die pinksterfees, staan in ‘n noue verband met mekaar. Hulle is almal met die aanbreek van die Nuwe Testament kort ná mekaar vervul – dit was tydens die kruisiging en opstanding van die Here Jesus, asook die uitstorting van die Heilige Gees. Die laaste drie feeste staan as die oesfees bekend, en sal in die gebeure rondom die wederkoms van Christus vervul word. Tussen hierdie twee groepe feeste het daar jaarliks vier maande verloop waarin Israel die oes moes insamel. Kom ons kyk wat die aanloop na die pinksterfees was.

Die Pasga

Die pasga word in die eerste maand van Israel se godsdienstige kalender gevier. Dit is in Maart of April op ons kalender: “In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here” (Lev. 23:5). Israel se kalender is op maanmaande gebaseer wat met die nuwemaan begin, daarom is dit op die 14de dag van die maand volmaan.

Moses het aan Israel gesê: “Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie… En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel… Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref… Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees… as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees nie” (Ex. 12:5-7,12-13).

Met die instelling van die pasga is die eerste formele riglyne gelê waarvolgens God se verlossingsplan vir die mens 1500 jaar later sy finale vervulling in die kruisdood van Jesus Christus sou verkry. Die vervulling van die pasga was met die kruisiging van die vlekkelose Lam van God wat in die volheid van die tyd mens geword het om vir ons sy lewe af te lê. Johannes die Doper het na Hom gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Petrus het ook na die pryslose offer van hierdie Lam verwys toe hy gesê het: “…julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).

Weens die tipologiese aard van die pasga, as ‘n heenwysing na die offer van die Lam van God, was dit duidelik dat hierdie fees tydens een van sy toekomstige vieringe vervul sou word. Die Here Jesus is inderdaad op die dag van die pasgaviering gekruisig. Het jy al hierdie groot offer in die geloof aanvaar? “…die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom… die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jes. 53:5-6). Die vraag is of jou hart deur die bloed van die Lam gereinig is? As die plaasvervangende dood van die Lam van God nie vir jou toegereken is nie, is jou hart en lewe nog nie gereinig nie – dan sal jy self die straf vir jou sonde moet dra. Die Here sê: “As Ek die bloed sien, sal Ek by [jou] verbygaan” (Ex. 12:13). Hy sê nie: “As ek ‘n goeie lewe, ‘n doopseël of ‘n graad in teologie sien, sal Ek by jou verbygaan” nie. Net die bloed van Jesus Christus reinig ons van sonde en ongeregtigheid (1 Joh. 1:7). Die voorwaarde hiervoor is dat ons alle sonde moet bely en laat staan (1 Joh. 1:8-9; Spr. 28:13). Doen dit en jy sal lewe!

Die fees van die ongesuurde brode

Direk ná die pasga het die fees van die ongesuurde brode ‘n aanvang geneem: “…en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie” (Lev. 23:6-7). Vir die ortodokse Jode is die betekenis van hierdie fees in selfondersoek en verootmoediging geleë. Suurdeeg is ‘n beeld van sonde, daarom simboliseer die eet van ongesuurde brood die nastreef van ‘n heilige lewe. Tydens die volle duur van die fees moet suurdeeg, en selfs ook krummels van gesuurde brood, uit hulle huise verwyder en verbrand word (Ex. 12:15). Op dieselfde manier moes mense se lewens gereinig word deur afstand van hulle sonde te doen.

Die ongesuurde brood moes saam met die vleis van die offerlam én bitter kruie geëet word (Ex. 12:8). Die volk het nie net verlossing deur die bloed van die lam gekry nie, maar moes hulle ook met die vleis van die offerlam voed en versterk om krag te verkry vir die moeilike reis wat voorgelê het. Die bitter kruie dui op die lyding wat deur sonde veroorsaak is, asook die lyding van die lam self. Die volk moes onder die bloed van ‘n onskuldige offerlam skuil sodat hulle marteling weens slawerny aan die sonde beëindig kon word. Die haas waarin die eet van die offermaal moes geskied, was deel van die voorbereidings vir ‘n bevrydingsreis wat daarna onderneem moes word. Die verloste volk van God vertrek op ‘n reis na ‘n nuwe lewe. Hulle is vreemdelinge en bywoners op aarde, wat onderweg na hulle ewige tuiste is.

Hierdie fees, wat wesenlik deel van die pasgavieringe is, is deur die sterwe en begrafnis van die Here Jesus vervul. Hy is die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het sodat dit veel vrug kon dra (Joh. 12:24). As die volmaakte en sondelose Lam van God is Hy self die ongesuurde brood van die lewe deur wie se krag ons geestelik kan opgroei; daarom kon Jesus sê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee” (Joh. 6:51). Hy verlos ons nie alleen van die slawerny van die sonde nie, maar stel ons ook in staat om die weg van die verlostes te kan bewandel en die goeie stryd van die geloof in ‘n verdorwe wêreld te stry.

Van ons word verwag om ons só met Christus as die ongesuurde brood van die lewe te vereenselwig dat ons alle suurdeeg van sonde sal aflê. Paulus sê: “Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor. 5:6-8).

Soos die Jode van ouds hulle huise op hul knieë in kerslig deursoek het om elke krummel brood wat met suurdeeg gebak is, te verwyder, moet ons ook op ons knieë in die lig van God se Woord ons lewens deursoek en van alle ondeug en boosheid afstand doen. Gebruik die volgende Skrifgedeeltes as ‘n riglyn vir hierdie selfondersoek en hertoewyding:

  • “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23-24).
  • “Nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol. 3:8-10).
  • “Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei” (1 Pet. 2:1-2).
  • “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:8-9).
  • “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1).

Ons moet alle sondes bely en ‘n skoon breek met die verlede maak, sodat ons nie die pad van die Here met ‘n erfenis van onbelyde sondes sal probeer bewandel nie. Dit sal ons vroeër of later tot struikeling bring. As ons onsself deeglik van hierdie dinge gereinig het, kan ons die Here vir ‘n nuwe vervulling met die Heilige Gees vertrou. Hy sál dit ook doen!

Die fees van die eerstelingsgerf

Hierdie fees bring ons by die begin van Israel se jaarlikse oesseisoen. Reg aan die begin daarvan moet die hele oes deur ‘n spesiale fees geheilig word. Verder moet die volk self deur die beweegoffer van die eerstelingsgerf vir God welgevallig gemaak word:

“Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg” (Lev. 23:10-11).

Met hierdie fees is dus iets veel meer op die spel as net die jaarlikse insameling en heiliging van die oes, omdat die beweegoffer ook daartoe moes bydra om die volk vir God welgevallig te maak. Ná Israel se winterreënseisoen is die koring en gars in die lente in die aar, en kan die eerste gerf van die komende oes as ‘n beweegoffer in die tempel gebring word. Dit is die fees van die eerste vrugte, wat net ná die pasga in die lentemaand gevier word – reg aan die begin van die godsdienstige kalender.

Israel is in die lentemaand uit Egipte bevry nadat die offerlam geslag is, en het aan die begin van ‘n nuwe lewe gestaan. ‘n Ontmoeting met die Lam van God wat ons sondes wegneem, is ook vir ons die begin van ‘n nuwe lewe. Ons word aan sy dood én opstanding gelykvormig gemaak.

In die jaar toe Jesus gekruisig is, is die beweegoffer van die eerstelingsgerf op die Sondagoggend gebring toe Hy uit die graf opgestaan het. Dit was die dag ná die sabbat, m.a.w. die eerste dag van die week: “…nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdalena” (Mark. 16:9). Die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het, het op hierdie Sondagoggend sy eerste vrug opgelewer. Dit het die oesseisoen ingelui en die hele oes wat daarna ingesamel sou word, geheilig. Net Jesus alleen kon die eerstelingsgerf wees wat aan God geoffer is om die hele oes wat in sy Naam ingesamel word, te heilig en vir God welgevallig te maak. Hy is die eersteling van dié wat uit die dood opstaan, en het dit sodoende vir baie mense in die hele wêreld moontlik gemaak om uit die dood van die ou lewe op te staan en in Christus deel van die groot oes vir die koninkryk van die hemel te word:

“As Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof… Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het… Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde; as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms” (1 Kor. 15:14,20,22-23).

‘n Verdere belangrike feit is die bepaling dat hierdie fees spesifiek op ‘n Sondag gevier moes word – die dag ná die sabbat. Dit verteenwoordig profeties ‘n oorgang van die ou verbond na die nuwe verbond. Sondag is die eerste dag van ‘n nuwe week, of dispensasie, in God se raadsplan vir die mens. In hierdie bedeling word die opstanding van Jesus spontaan elke week op Sondae as die dag van die Here gevier. Die fees van die eerstelingsgerf in Levítikus 23 is die vroegste aanduiding in die Ou Testament van ‘n toekomstige Sondagviering as ‘n Christusfees. Op dié dag verkondig ons die boodskap: Hy het opgestaan, Hy leef! Jesus self het op die Sondag van sy opstanding die eerste erediens van die nuwe bedeling gehou, asook ‘n week later, weer op ‘n Sondag, die tweede diens (Joh. 20:19-29). Daarna het die dissipels gereeld op Sondae bymekaargekom (vgl. Hand. 20:7 en 1 Kor. 16: 1-2), terwyl die uitstorting van die Heilige Gees as die geestelike toerusting vir wêreldevangelisasie ook op ‘n Sondag was. Dit is dus nie toevallig dat die vroeë Christene Sondag as die dag van die Here begin vier het nie.

Die pinksterfees

Die fees van die eerstelingsgerf en die pinksterfees word saam as die fees van die eerste vrugte beskryf. Hulle staan ook as die fees van die weke bekend, omdat hulle presies sewe weke uitmekaar gevier word:

“Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring – sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan die Here bring. Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee tiendes van ‘n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die Here” (Lev. 23:15-17).

Dit is betekenisvol dat hierdie fees ook op ‘n Sondag gevier word – die dag ná die sewende sabbat. Daar is vyftig dae in hierdie sewe weke. Volgens die Jode se reël van inklusiewe tydsberekening is daar in dié tyd agt Sondae omdat beide die eerste en die laaste Sondag getel word. Die fees van die vyftigste dag word die pinksterfees genoem, afgelei van die Griekse woord “pentecoste” wat “vyftigste” beteken.

Op hierdie dag herdenk die Jode die formele begin van die bedeling van die wet. Hulle glo dat die bevryde Israeliete op die 50ste dag ná die viering van die pasga en hulle uittog uit Egipte by die berg Sinai aangekom het waar Moses die tien gebooie ontvang het (Ex. 19:1-3). Dit was vir só ‘n ortodokse pinksterfees dat Jode uit verskillende lande in Jerusalem bymekaar was op daardie besondere Sondagoggend toe die Heilige Gees uitgestort is, soos in Handelinge 2 beskryf.

Die Christelike pinksterfees is dus op die dag waarop die die Ou Testamentiese pinksterfees gevier is, vervul. Die 50 dae tussen die beweegoffer van die eerstelingsgerf en die pinksterfees het aan die begin van die Nuwe Testament tussen die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees verloop. Ná die Sondag van Jesus se opstanding het 40 dae tot by sy hemelvaart verloop (Hand. 1:2-3), en ‘n verdere tien dae tot by die uitstorting van die Heilige Gees. Ná die Donderdag van die hemelvaart het die dissipels hulleself tien dae lank in die bovertrek verootmoedig en gebid om die belofte van die Heilige Gees te ontvang. Op die dag ná die sewende sabbat sedert paasnaweek is die Heilige Gees oor hulle uitgestort.

Die ortodokse Jode wat vir hulle pinksterfees van die wet byeen was, het glad nie gemerk dat die wet oorgegaan het in die genade en dat die bedeling van die kerk onder alle nasies op daardie dag begin het nie. Hulle was steeds geestelik verblind omdat hulle nie vir Jesus as die beloofde Messias en Lam van God wou aanvaar nie. Weens hulle ongeloof het Jesus se opstanding uit die dood ook nie tot hulle gespreek nie, omdat die verrese Heiland nie aan ongeredde mense verskyn het nie. Ortodokse Jode het aan die skaduagtige Ou Testamentiese feeste bly vashou en dit voortgesit tot vandag toe nog. Dit is net die Messiaanse Jode wat die vervulde Christusfeeste vier.

Watter verskil sou dit nie gemaak het as Israel se oë vir hierdie groot waarhede oop was nie! Op Sinai, waar die volk op die 50ste dag ná die pasga die wet gekry het, het 3 000 mense gesterf omdat die wet hulle afgodery rondom die goue kalf veroordeel het. In Jerusalem, waar die Heilige Gees op die 50ste dag ná paasnaweek uitgestort is, is 3000 Jode op een dag gered! Die letter van die wet maak dood, maar die Gees maak lewend (2 Kor. 3:6). Hierdie volmaakte tydsberekening vir die uitstorting van die Heilige Gees dui onmiskenbaar daarop dat die bedeling van genade, wat ook die bedeling van die kerk of die bedeling van die Heilige Gees genoem word, die bedeling van die wet in God se raadsplan vir die mens vervang het.

Dit is verder opmerklik dat die pinksterfees nie in isolasie beskou word nie, maar deur middel van ‘n aftelling van 50 dae aan die paasgebeure gekoppel word. Dit is dus nie ‘n losstaande gebeurtenis nie, maar ‘n uitvloeisel van die voorafgaande feeste. Om hierdie rede moet die vervulling met die Heilige Gees altyd in sy noue verband met die sterwe en opstanding van die Here Jesus gesien word. Daar is vandag baie mense wat nalaat om hierdie eenheidsverband te sien. Hulle lê soveel klem op die Gees, en veral op die gawes van die Gees, dat Jesus en sy kruisdood in die agtergrond verdwyn.

‘n Gekruisigde lewe is ‘n voorwaarde vir vervulling met die Heilige Gees. Ek kniel dus nie net voor die kruis om van my sondes gereinig te word deur die bloed van die Lam nie, maar om self ook vir die wêreld en die sonde gekruisig te word. Ek moet my ou, vleeslike natuur afsterf en saam met Christus in ‘n nuwe lewe opgewek word. Ek moet met die nuwe mens beklee word wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Net die Heilige Gees kan my met die opstandingslewe van Christus beklee. Dit is waarop die dissipels in daardie tien dae tussen die hemelvaart van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees gewag het.

Ons moenie tekens en wonders verwag wanneer die Heilige Gees ons vervul nie, soos bv. die spreek in tale, want dit word nêrens aan die dissipels belowe nie. Dit was slegs ‘n oorgangsteken in daardie vroeë jare om aan te toon dat Christus se evangelie vir alle volke en tale bedoel is. Die basiese belofte wat aan die dissipels gemaak is, was krag om in ‘n vyandige wêreld getuies vir Christus te kon wees. Hulle het krag uit die hoogte ontvang.

Een ander aspek van die Ou Testamentiese pinksterfees wat opvallend is, is die feit dat twee brode wat met suurdeeg gebak is, as beweegoffers aan die Here gebring moes word. Dit is eienaardig, want suurdeeg is altyd ‘n simbool van sonde. Dit is dus duidelik dat hierdie brode nie op Christus dui nie, omdat Hy die ongesuurde, sondeloos volmaakte brood van die lewe is, soos voorgestel deur die ongesuurde brode wat tydens die paasfees geëet word. Die twee gesuurde brode dui op gelowiges uit Israel én die heidendom, m.a.w. op die kerk van Christus wat op hierdie fees sy beslag gekry het. Hoewel hulle ‘n opdrag het om heilig te leef, is hulle nie sondeloos volmaak nie. Ons moet onsself voor die Here verootmoedig en alle suurdeeg van sonde wat daar nog in ons lewe is, aflê sodat ons volkome gereinig kan word. Ons word tot hoër vlakke van heiligheid opgeroep, daarom moet ons ‘n lewe lei waarin sonde en vleeslike neigings toenemend afgelê word sodat ons in ‘n voller mate met Christus beklee kan word.

Ons moet ook ons vrymoedigheid en ywer vir die saak van die Here behou, en hiervoor is dit nodig om meermale met die Gees van God vervul te word. Wanneer daar kritiek en dreigemente teen die dissipels was, het die Here hulle opnuut met sy Heilige Gees vervul sodat hulle innerlik versterk kon word. In Hand. 2 is die dissipels die eerste keer met die Heilige Gees vervul. In Hand. 4 lees ons dat die vervolging teen hulle só hewig was dat hulle die Here om genade gebid het sodat hulle met hul prediking kon volhard: “En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u Woord te spreek” (Hand. 4:29). Die Here het hierdie gebed beantwoord deur hulle opnuut met sy Gees te vervul: “Hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die Woord van God met vrymoedigheid gespreek... En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal” (Hand. 4:31,33). In Handelinge 13:50-52 lees ons van ‘n verdere vervulling met die Heilige Gees onder uiters moeilike omstandighede.

Ons kan die Here ook vir ‘n nuwe aanraking met krag uit die hoogte vertrou. Is jy dalk in ‘n ernstige krisis of stryd, of is daar dalk nog sonde en vleeslikheid wat beheer oor jou het? Verootmoedig jouself dan in hierdie tyd voor die Here, vertrou Hom vir volkome verlossing, en verklaar jouself opnuut bereid om leeggemaak te word sodat sy Gees jou lewe kan vervul. Kom ons vertrou die Here vir ‘n vars salwing deur sy Gees.

Die insameling van die oes

Ná die fees van die eerste vrugte verloop daar ‘n tydperk van vier maande waarin die oes in Israel ingesamel word. Daarna volg die laaste drie feeste wat as die oesfees bekend staan. Die lang periode tussen die twee groepe feeste dui profeties op die bedeling van die kerk, waartydens ‘n oes vir die koninkryk van die hemel ingesamel word. Dit is ‘n tyd van toegewyde arbeid in die oeslande van die wêreld sodat die groot oes vir die Here se koninkryk ingesamel kan word. Jesus het sy dissipels só tot aksie aangespoor: “Sê julle nie: Dit is nog vier maande dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes” (Joh. 4:35). By ‘n ander geleentheid het Hy gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur” (Luk. 10:2). In een van sy gelykenisse word na die hele wêreld as ‘n saailand verwys en na die finale insameling van die oes as die voleinding van die wêreld (Matt. 13:38-39).

Ons is nou nog in oestyd. Weldra sal die basuin van God blaas, wanneer die Here se oes in die hemel versamel sal word. Die pinksterboodskap is van deurslaggewende belang vir die uitvoering van die groot taak wat aan ons opgedra is, want geen gelowige kan by die insameling van die Here se oes betrokke wees as hy of sy nie deur die Heilige Gees hiervoor toegerus is nie. Die uitstorting van die Heilige Gees was die belofte waarvoor die vroeë dissipels in Jerusalem moes wag. Hierdie krag is nie net aan sekere spesiale dissipels belowe nie, maar aan almal van hulle. Nie een van ons kan sonder dit ‘n getuie vir Christus wees nie, want uit eie krag kan ons nooit teen die liste van die duiwel staande bly nie. Ons kan ook nie sonder die Here se hulp met oortuiging die evangelie verkondig nie, want ons prediking moet nie in oorredende woorde van menslike wysheid wees nie, maar in die betoning van gees en krag. Ons het die instaatstellende krag van God se Gees nodig.

Die dissipels het hulleself ondersoek, verootmoedig en op die vervulling van die belofte van die Heilige Gees gewag. Dit was vir hulle almal ‘n tweede genadewerk, want hulle was reeds gered en het die vrede van sondevergifnis gehad, wat deur die inwonende Gees van God aan hulle gegee is. Hulle het ook reeds op die dag van Jesus se opstanding uit die dood die sendingopdrag gekry. “Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees” (Joh. 20:21-22).

Op pinksterdag het hulle die krag ontvang om hierdie groot opdrag uit te voer. Almal van ons moet die vrede én die krag van die Heilige Gees in ons lewens ervaar. Ons ontvang die vrede van God ná ons wedergeboorte. Dit verdryf die donker skuldgevoelens wat vroeër deur ons sonde en verlorenheid veroorsaak is. Nadat ons met God versoen is, kry ons die blye wete dat ons aan Hom behoort en eendag hemel toe sal gaan. Die blydskap, vrede en krag van die Heilige Gees moet dwarsdeur ons lewe aanwesig wees, as ‘n aanduiding dat ons steeds op die regte pad is en deur die Gees wandel.

Wanneer die vrede van die Here in jou hart versteur word of verdwyn, is jy besig om buite die Here se wil te beweeg. Dan sal die Heilige Gees jou nie vrede gee nie, maar oor jou sonde en vleeslikheid aankla. Stel dadelik die saak reg en kom weer in die regte verhouding met die Here. Moenie besluite neem voordat jy oor ‘n saak gebid en vrede in jou hart daaroor gekry het nie.

Deur die krag van die Heilige Gees sal jy in staat gestel word om oorwinnend te leef, en dus nie ‘n lewe van val-en-opstaan hoef te lei nie: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Wag op die Here en vertrou Hom vir ‘n nuwe toerusting met die krag van die Heilige Gees. Hy sal dit vir jou doen!

Gebed: Here Jesus, ons neem weer eens die belofte van die vervulling met die Heilige Gees vir onsself aan. Selfs al het ons in die verlede só ‘n ondervinding gehad, het almal van ons nodig om opnuut toegerus te word met krag uit die hoogte. Dankie, o Gees van God, dat U ons oortuig van alle sondes en vleeslikheid wat tussen ons en U staan, en waardeur ons U in ons lewe bedroef. Ons kom in hierdie oomblikke om dit te bely en af te lê sodat ons skoon kanale kan wees waardeur U kan werk. Ons besef dat heiligmaking ‘n baie groot verskil in ons lewe kan maak. Ons wil nie kragtelose, biddelose en onvrugbare lewens lei wat onder die mag van die vlees vasgevang is nie, maar ons verlang na oorwinnende en godvrugtige lewens onder die leiding van God se Gees. Wys ons genadiglik wat die struikelblokke in ons eie lewe is, en maak ons bereid om dit ten volle aan die voet van die kruis af te lê, sodat ons die tweede genadewerk van heiligmaking deelagtig kan word. Bereik u doel met ons lewens, en gee dat ons nie sal rus voordat u Heilige Gees ons innerlik vernuwe het nie. Ons vra dit om Jesus ontwil, amen.

 

2. Krag uit die Hoogte

Gebed: Ons nader tot u genadetroon, o Here, onder die diepe besef van ons onwaardigheid. As U nie ons swakhede te hulp snel, die oë van ons verstand verlig en ons geestelik sterk maak nie, sal ons mislukte dissipels wees wat niks in u koninkryk sal bereik nie. Ons dank U egter vir die krag van die Heilige Gees wat aan elke kind van U belowe is. Hiervoor kom ons ook eendragtig bymekaar. Ons verklaar onsself bereid om van alle sondes en verkeerde gesindhede afstand te doen, sodat ons volkome gereinig kan word van alle ongeregtigheid. Help ons om in hierdie selfondersoek absoluut eerlik te wees, sodat daar niks sal oorbly wat ons kan besoedel en na die wêreld aftrek nie. Dit is ons begeerte om in hierdie dae geestelik met die nuwe mens beklee te word wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Lei ons elke dag deur u Gees, sodat ons getuienis teenoor ander mense nie in oorredende woorde van menslike wysheid sal wees nie, maar in die betoning van Gees en krag. Ons vra dit ter wille van ons magtige Verlosser, Jesus Christus, amen.

Die sendingopdrag aan die dissipels het met ‘n belofte gepaard gegaan dat die Here aan hulle die geestelike toerusting en krag sou gee om hierdie groot taak te kon uitvoer. Sonder die krag en leiding van die Heilige Gees sou dit vir hulle totaal onmoontlik wees om suksesvol as getuies vir Christus in ‘n vyandige wêreld te kon optree. Hulle is uitdruklik deur die Here Jesus verbied om met evangelisasiewerk te begin voordat hulle met die krag van die Gees toegerus is. Hy het gesê: “So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49).

Dit is belangrik om die belofte van krag uit die hoogte in sy regte verband te verstaan, naamlik as geestelike toerusting om vir die Here te kan werk. Dit het niks met redding as sodanig te doen nie, want die dissipels was toe reeds deur die Heilige Gees gewederbaar en het die vrede van sondevergifnis geken. Op die dag waarop Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy in die midde van sy dissipels verskyn en aan hulle gesê: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees” (Joh. 20:21-22). Hulle was voor pinksterdag dus gered, en het ook die opdrag vir wêreldevangelisasie ontvang, maar hulle het nog nie die tweede genadewerk van vervulling met die Heilige Gees ervaar nie.

Waarom moes die dissipels ná die hemelvaart van Jesus tien dae lank wag voordat die Heilige Gees oor hulle uitgestort is? Dit was ‘n noodsaaklike tyd van verootmoediging en voorbereiding om die groot seën te kon ontvang wat die Here aan hulle beloof het.

Die tien dae van wag op die uitstorting van die Heilige Gees was vir hulle ‘n tyd van selfondersoek en reiniging. Wanneer die Heilige Gees jou lewe, jou gedagtes en jou begeertes in die lig van die Woord deursoek, dan kom daar in kinders van die Here se lewens nog baie sondes, onreinheid en materialisme na vore waarvan hulle gereinig moet word. Die Here sê dat as ons dit bely, Hy getrou en regverdig is om ons sonde te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig (1 Joh. 1:9). Ons moet skoon kanale wees waardeur sy Gees kan werk.

Dit was ook ‘n tyd van selfverloëning en selfkruisiging. Hulle moes besef dat die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig moes word, en dat hulle van alle neigings tot vleeslikheid en wêreldgesindheid gereinig moes word sodat die Heilige Gees volle beheer oor hulle lewens kon neem. Wat gebeur as die ou natuur nie gekruisig word nie? “Die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Lê die oue mens af en gee dit oor om gekruisig te word, dan alleen sal jy kan wandel deur die Gees en nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie (Gal. 5:16). Ons moet eers van onsself ontledig word voordat ons met die Heilige Gees vervul kan word. Die vlees neig na sonde, eie eer, hoogmoed, rykdom en baie ander dinge van die wêreld. Die Gees kan nie goddelike eienskappe in ons bevorder so lank as wat ons ‘n ongekruisigde vlees het nie. Die dissipels het ‘n volle oorgawe gemaak en op die Heilige Gees gewag om hulle met die nuwe mens te beklee wat na God geskape is, in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:24).

Hulle het in hierdie tyd hulleself verloën, aan die einde van hulleself gekom en bely dat hulle sonder die instaatstellende krag van die Heilige Gees niks kon doen nie. Uit hulle eie krag sou hulle nooit hierdie groot taak kon verrig nie. Voor pinksterdag het die dissipels gedink dat hulle uit hulle eie aan die Here Jesus getrou kon bly, maar hulle het hulself ernstig misreken. Petrus kon nie eers voor ‘n eenvoudige diensmeisie erken dat hy ‘n volgeling van Jesus was nie, en het sy Meester in dieselfde aand drie keer verloën. Op pinksterdag het hy egter met groot oortuiging voor duisende mense van die Here Jesus se reddende genade getuig. Wat het die groot verskil in sy lewe gemaak? Die krag van die Heilige Gees.

Voor pinksterdag het die dissipels tot die besef gekom dat hulle nooit die Here sonder ‘n geestelike Leidsman en Leermeester sou kon dien nie. Hiervoor het die Heilige Gees ook gekom, om hulle in die hele waarheid te lei en hulle te herinner aan alles wat die Here Jesus gesê het (Joh. 16:13-14). Die dissipels het nie net verligte oë van die verstand gekry om die Woord van die Here te kon verstaan nie, maar ook die bewussyn dat die Here Jesus en die Vader deur die Heilige Gees in hulle harte gewoon het (Joh. 14:23). In dié opsig was Hy vir hulle ‘n Trooster wat die hartseer oor die Here Jesus se fisiese afwesigheid uit hulle harte weggeneem het.

Die krag van die Heilige Gees het ook ‘n deurslaggewende rol gespeel om aan die dissipels oorwinning oor vrees te gee – vrees vir mense én ook vrees vir die aanvalle van die duiwel. Die vrees wat hulle in die gebeure rondom die vervolging en kruisiging van Jesus beleef het, het verdwyn en vir groot vrymoedigheid plek gemaak. Dit het veroorsaak dat hulle selfs te midde van dreigemente en vervolging nie opgehou het om Christus te verkondig nie. Hierdie krag het hulle ook gehelp om teen die versoekings en aanslae van Satan staande te kon bly. Paulus het na die krag van die Heilige Gees verwys toe Hy gesê het: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Die instaatstellende krag van God se Gees is onontbeerlik in elke Christen se lewe.

‘n Verdere, baie belangrike verskil wat die vervulling met die Heilige Gees in die dissipels se lewens gemaak het, is dat hulle heeltemal van die wêreld en wêreldse begeertes losgemaak is en in die plek daarvan ‘n sterk verlange na hulle woning in die hemel gekry het. ‘n Aktiewe wederkomsverwagting was ‘n wesenlike deel van hulle bestaan. Die Heilige Gees het hulle nie slegs in die waarhede van die evangelie gelei nie, maar ook die toekomstige dinge aan hulle verkondig (Joh. 16:13). Die Here Jesus het in sy laaste onderwys aan die dissipels gesê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3). Hierdie belofte moes hulle aanspoor om nie in die verwagting na hulle ewige woning in die hemel te verflou nie, en om die boodskap van God se koninkryk enduit te verkondig. Die Heilige Gees maak ons vir ons taak op aarde bekwaam en berei ons in die proses ook voor om eendag op ‘n waardige wyse, sonder vlek of rimpel, voor die Here Jesus gestel te word.

Die beloofde krag uit die hoogte het van die onseker, vreesbevange en vleeslike dissipels vasberade, toegewyde en Geesvervulde Christene gemaak wat te midde van die kwaaiste teëstand die kruisevangelie van Jesus Christus vreesloos verkondig het. Hulle het besef dat dit in hulle belang was dat Jesus na die hemel opgevaar het, sodat die belofte van die volheid van die Heilige Gees aan hulle vervul kon word.

Hierna kon Jesus deur elkeen van sy dissipels praat, waar hy of sy ook al in die wêreld was. Jesus Christus het in sy dissipels gestalte aangeneem, en het hulle geestelik toegerus om met groot gesag van sy reddende genade te kon getuig. Christus het Homself op hierdie manier vermenigvuldig sodat Hy die ongeredde wêreld op baie verskillende plekke gelyktydig deur sy dissipels kon aanspreek. Hulle het almal namens Hom gepraat.

Afhangende van elke dissipel se vlak van toewyding, was daar geen beperking op dit wat die Here deur hulle kon doen nie. As hulle rein kanale was, vol van die Heilige Gees en van geloof, sou hulle veel in die koninkryk van die hemel kon vermag. Jesus het selfs gesê dat hulle groter werke as Hy sou kon doen, omdat Hy na sy Vader gaan en al die volheid van die Heilige Gees oor hulle sou uitstort (Joh. 14:12). Dit het ook gebeur, want op pinksterdag is daar deur die dissipels se prediking 3000 siele gered. Evangelisasie van hierdie omvang het nooit tydens Jesus se aardse bediening gebeur nie. Waarom nie? Jesus Christus het toe nog nie die losprys vir die wêreld se sonde betaal nie, die Heilige Gees is nog nie in sy pinkstervolheid uitgestort nie, en kennis van die evangelie van verlossing was voor Jesus se kruisiging nog baie gebrekkig en beperk.

Die evangelie moes eers intensief deur Geesvervulde dissipels verkondig word, ook in die tale van ander volke na wie hulle die boodskap uitgedra het. Aanvanklik het die Here aan sekere dissipels ‘n bonatuurlike gawe gegee om die evangelie in ander tale te verkondig, en hierdeur duidelik laat blyk dat die evangelie vir alle volke bedoel is. Daarna het hierdie gawe opgehou en moes Bybelboeke sistematies deur kundige Christene in ander tale vertaal word. Evangeliste moes self die tale van hul teikengemeenskappe aanleer.

Dieselfde beginsel geld ook vir die tekens en wonders wat die vroeë dissipels gedoen het as bevestiging dat hulle die ware Woord van die Here verkondig. ‘n Ongelowige en vyandige wêreld het deur sigbare manifestasies gesien dat die Here met die dissipels was. Nadat hierdie doel bereik en die Christelike evangelie gevestig geraak het, het tekens en wonders drasties afgeneem. Later geslagte het die Bybel gehad, asook ‘n wolk van getuies wat van die waarheid daarvan getuig het. Hulle moes deur die geloof leef, sonder opspraakwekkende tekens en wonders. In elk geval is tekens, wonders en talespreek nie by die pinksterbelofte ingesluit nie, en kan ons dus nie daarop aanspraak maak of dit verwag nie. Die Here Jesus het net gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8).

Dit is uit die geskiedenis van die vroeë Christelike kerk duidelik dat nie alle gelowiges met die Heilige Gees vervul was nie. Die rede vir hierdie gebrek was by hulleself geleë omdat hulle hulself nie voor die Here verootmoedig en die kruis van selfverloëning opgeneem het nie. Sulke dissipels was nog onder die mag van die vlees, en kon dus nie ten volle deur die Heilige Gees vervul en gebruik word nie. As gevolg van hierdie gebrek in baie van die dissipels se lewens is daar in die eerste gemeentes opdrag gegee dat net manne wat met die Gees vervul was, as ampsdraers gekies moes word. Hulle het gesê: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel” (Hand. 6:3).

Hierdie standaard behoort vandag nog gehandhaaf te word, maar dit word in die meeste gevalle nie meer gedoen nie. Die herlewingsprediker, Charles Finney, het in sy boek, Power from on High, gesê:

“Die toerusting met die krag van die Heilige Gees was ‘n noodsaaklike vereiste vir die uitvoering van die werk wat die Here aan ons opgedra het. Niemand het die reg om in enige geestelike aktiwiteit sukses te verwag indien hy nie eers met krag uit die hoogte toegerus is nie. Die voorbeeld van die eerste dissipels leer ons hoe om hierdie gawe deelagtig te word. Hulle het hulself vir die werk afgesonder en eers in gebed en smeking gewag totdat die Heilige Gees op pinksterdag oor hulle gekom en hulle die beloofde toerusting met krag ontvang het. Dit is die enigste wyse waarop dit gebeur, en die Vader is steeds net so gewillig om dit aan ons te gee as wat ons as ouers gewillig is om goeie gawes aan ons kinders te gee.

“Daar is ‘n groot verskil tussen die vrede en krag van die Heilige Gees. Die dissipels was voor Pinksterdag reeds Christene gewees en het die vrede van sondevergifnis en regverdigmaking ervaar, maar was nog nie met die krag uit die hoogte toegerus wat noodsaaklik was vir die evangelisasiewerk wat aan hulle opgedra is nie. Hulle het die vrede gehad wat Christus aan hulle gegee het, maar nog nie die krag wat Hy aan hulle beloof het nie.

“Dit mag ook van baie Christene waar wees, en ek dink dat juis dít die groot gebrek in die kerk en in die bediening is. Mense berus by bekering, en hou nie aan soek totdat hulle toegerus is met krag uit die hoogte nie. Om hierdie rede is hulle nie kragtig in die Here nie, en het ook geen noemenswaardige invloed in ander mense se lewens nie.

“Wanneer kinders van die Here hulleself verootmoedig, ‘n nuwe oorgawe aan Christus maak en ook om hierdie krag bid, word hulle dikwels só vervul en bekragtig dat hulle in een dag meer siele na die Here lei as in hulle hele lewe tot in daardie stadium. Indien hulle nederig genoeg is om hierdie krag te behou, sal die redding van mense onder hulle bediening voortduur. Die gebrek aan toerusting met krag uit die hoogte moet as ‘n besliste diskwalifikasie vir teologiese professore, predikante, ouderlinge, diakens en sondagskoolonderwysers beskou word. Is dit ‘n harde en liefdelose woord? Is dit onregverdig, onredelik of onskriftuurlik? Nee.

“Christus het die apostels uitdruklik verbied om die werk in eie krag te probeer doen, maar om te wag totdat hulle met krag uit die hoogte toegerus was. Mag dit dan toegelaat word dat die kerk van Christus belas word met voorgangers en ampsdraers wat nie oor hierdie fundamentele kwalifikasie beskik nie, en dit as gevolg van hulle eie nalatigheid?

“Die onverskilligheid, laksheid, onkunde en ongeloof wat hieroor geopenbaar word, is werklik verstommend. Dit is onverskoonbaar. Met só ‘n opdrag vir die evangelisering van die hele wêreld, met só ‘n bevel om in gebed te volhard totdat ons die krag ontvang, en met só ‘n belofte wat deur só ‘n Verlosser gemaak is en gerig is aan elkeen wat die hulp van Christus nodig het, watter verskoning kan ons aanbied dat ons kragteloos in hierdie groot werk is? Watter verantwoordelikheid rus daar nie op ons én op die kerk nie!

“Daar is ‘n groot behoefte aan hervorming in die kerk wat hierdie saak betref. Sterk standpunt sal oor die geestelike kwalifikasie van predikante en ander ampsdraers ingeneem moet word. Teologiese kweekskole behoort ook streng op hierdie grondslag beoordeel te word, anders sal hulle nie hulle verantwoordelikheid besef nie. ‘n Kweekskool moet nie ‘n plek wees waar slegs dogma geleer word nie, maar ook, en veral, die ontwikkeling van ‘n Christelike ondervinding. Daar behoort wél ‘n hoë peil van intellektuele opleiding te wees, maar dit is oneindig meer belangrik dat studente gelei sal word in ‘n persoonlike kennis van Jesus Christus, en dat hulle die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde sal ervaar, terwyl hulle aan sy dood gelykvormig word.

“Ek wil die kerke en kweekskole vriendelik vra om ‘n vermaning te aanvaar van ‘n ou man wat baie ondervinding van hierdie dinge het. Ek smeek julle, broeders, om nie te rus nie totdat hierdie saak reggestel is, en die toerusting met krag uit die hoogte sy regmatige plek verkry het wat Christus daarvoor in sy kerk bedoel het” (einde van aanhaling uit Finney se boek).

Elkeen van ons het ook die geleentheid om seker te maak dat ons met krag uit die hoogte toegerus is. Hiersonder sal ons nie oorwinnende Christene wees wat bruikbaar in Christus se koninkryk is nie. Die krag van die Heilige Gees is tot elkeen van ons se beskikking.

Gebed: O Here, ons het opnuut nodig om te besef dat ons U nie sonder die instaatstellende krag van die Heilige Gees kan dien soos ons moet nie. Sonder hierdie krag kan ons nie die lig van die Here in ‘n donker en vyandige wêreld laat skyn nie, ons kan nie duidelike standpunte teen al die ongeregtigheid rondom ons inneem nie, ons kan nie teen al die versoekings van die Bose oorwin nie, en ons kan ook nie met oortuiging die evangelie aan ‘n verloregaande wêreld verkondig nie. Die opdrag aan die vroeë dissipels geld ook vir ons, naamlik dat ons nie moet begin om die evangelie aan ‘n goddelose en vyandige wêreld te verkondig voordat ons toegerus is met krag uit die hoogte nie. Help ons, o Here, om hierdie opdrag ernstig op te neem en eers ons eie verhouding met U reg kry sodat ons deur die krag van u Gees vrugbaar kan arbei en ook staande kan bly teen die magte van die duisternis. Dan alleen sal ons die druk kan hanteer waaronder ons moet werk, en suksesvolle getuies vir Christus wees. Dankie dat U steeds bereid is om die belofte van vervulling met die Heilige Gees aan ons te skenk indien ons nederig genoeg is en onsself onder u kragtige hand verootmoedig terwyl ons vir hierdie wonderlike seën bid. Ons vra dit in die Naam bo elke naam, Jesus Christus, amen.

 

3. Vervul met God se Liefde

Gebed: Dit is vir ons ‘n verhewe en uitdagende gedagte, o Here, dat U ons roep om ons sondige natuur af te lê en aan u beeld van liefde en heiligheid gelykvormig te word. Dit is ver buite die mens se vermoë om soos U te wees, omdat die sondeval u beeld in ons vernietig het en van ons sondige mense gemaak het wat in die mag van ‘n hebsugtige en verdorwe selfliefde vasgevang is. Ons dank U vir die nuwe natuur van die Here Jesus waarmee ons beklee kan word. Wanneer ons met u Heilige Gees vervul word, maak Hy ons meer en meer aan u Seun gelykvormig en stort ook sy agape-liefde in ons harte uit. Here, ons bid dat ons harte sal hê wat vol van die Here Jesus se liefde is – daardie wonderlike, goddelike liefde wat nie op die behoeftes van die eie-ek gerig is nie, maar op die behoeftes van andere – ‘n liefde wat kan gee en dien en selfs sy lewe vir andere kan aflê. U het die verloregaande wêreld só liefgehad dat U u Eniggebore Seun as ‘n losprys vir ons sonde gegee het. Help ons om, gevul deur u liefde, ook onsself aan te bied sodat andere hierdie wonderlike nuwe lewe deelagtig kan word. Ons bid dit tot die eer en verheerliking van u grote Naam, amen.

Die belangrikste vrug van die Heilige Gees is liefde – liefde vir God, liefde vir die broeders en liefde vir ‘n verloregaande wêreld. Wanneer ons met die Heilige Gees vervul word, word ons ook met hierdie agape-liefde van God vervul. Paulus sê: “Die liefde van God is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5). Johannes sê ons moet volmaak word in die liefde (1 Joh. 2:5; 4:12).

Toe my bejaarde moeder in die hospitaal was, het sy vir my susters gesê: “Ons moet harte hê wat vol van die liefde van die Here Jesus is.” Sy het toe vir hulle gevra: “Het julle sulke harte?” Dit is sekerlik nie maklik om hierdie vraag eerlik te beantwoord nie, want dikwels is daar in ons harte ‘n mengsel van teenstrydige gedagtes en emosies. In baie mense se harte is daar ‘n stryd tussen die vlees en die Gees. Die vlees is op liefde vir jouself en vir die wêreld ingestel, terwyl die Gees die liefde van God verteenwoordig.

Ons moet in God se liefde gewortel en gegrond wees, en toesien dat ons nie deur wêreldgesindheid verkoel in ons liefde nie. Mense wat in hulle liefde verkoel het en daarby berus, loop gevaar om later hulle eerste liefde te verlaat (Op. 2:4). As dit die geval is, moet ons dringend die saak regstel en die Here vertrou om ons harte opnuut met sy liefde te vul.

Omdat die liefde van God as ‘n Christelike lewensbeginsel so belangrik is, moet ons van die wesenlike kenmerke daarvan bewus wees.

1. Dit is ‘n ewige en onveranderlike liefde

God se liefde bestaan van ewigheid tot ewigheid. Dit is nie tydelik en verbygaande van aard nie. Ons leef in ‘n sondige, gevalle wêreld waarin alle dinge aan die verganklikheid onderworpe is. Niks het ewigheidswaarde nie, daarom kan hierdie wêreld geen blywende geluk aan jou bied nie. Die meeste mense is weens hulle vleeslikheid en sondige natuur onbetroubaar en veranderlik. Goedgesindheid gaan dikwels oor in kwaadgesindheid, aanvaarding in verworpenheid, toegeneëntheid in afsydigheid, en liefde in liefdeloosheid, veragting of selfs haat. God se liefde is egter ewig en onveranderlik. Dit gee aan jou iets om voor te lewe waarop jy altyd kan peil trek en wat niemand van jou af kan wegneem nie – selfs nie die dood nie. Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Rom. 8:35-39). Dit maak die lewe oor en oor die moeite werd omdat dit ‘n saak is wat jou oor die grense van tyd en ruimte aan die ewige lewe van God self verbind.

Die mees verhewe en sinvolle gedagtes wat die mens kán bedink is oor die liefde van God. ‘n Verslaggewer het by geleentheid aan ‘n professor in Afrikaanse letterkunde gevra wat die mooiste en mees betekenisvolle woorde is wat sy ooit gelees het. Hierdie gelowige en goed belese dame het sonder huiwering net die eerste paar woorde van 1 Korinthiërs 13:8 aangehaal: “Die liefde vergaan nooit nie.” Wat ‘n aangrypende gedagte is dit nie – God se liefde is onverganklik! Dit is ‘n onvervreembare geskenk. Dit bied aan jou oneindig meer as wat dit van jou vra. Al wat dit van jou vra, is die bereidwilligheid om deur hierdie liefde herskep te word. Jy moet uit jou lewe van sondigheid, kortsigtigheid en materialisme opstaan, jou tot die lewende God bekeer deur in Hom te glo, en ‘n lewe te lei waarin jy Hom deur die Here Jesus sal liefhê en jou hoop vir tyd en ewigheid in Hom alleen sal stel.

2. Dit is ‘n liefde wat gee

God se liefde het ‘n uitwaartse gerigtheid deurdat dit na ‘n wêreld in sy nood uitreik. Dit is waarom Hy die kosbaarste van alle geskenke vir die wêreld kon gee, naamlik sy eniggebore Seun wat Homself vir ons sondes geoffer het. “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Joh. 15:13). Hy is die goeie Herder wat sy lewe vir die skape afgelê het, en al wat van ons verwag word, is om dit in die geloof aan te neem.

Hierdie eienskap van God se liefde is presies die teenoorgestelde as dié van die sondige mens wie se sinne deur Satan verblind is. Die gevalle mens het ‘n verwronge, hebsugtige en selfgerigte liefde. Hy is opgeblase, vol van homself en praat graag groot. Hy het homself ten koste van andere lief. Dit wat hy sien, begeer hy en wil dit vir homself inpalm. Hy wil nie homself verloën en gee nie, want hy het geen ware meegevoel nie en gee nie regtig om as die onheile andere tref nie. Hy het net diegene lief uit wie hy iets kan kry, en vir wie hy kan gebruik en ook kan misbruik. Hy word verbitterd as hy nie sy sin kry nie, en is sterk op vergelding teen kwaadwilliges ingestel.

Hoe anders is die rein, suiwer, herskeppende en onselfsugtige liefde van God nie! Dit is só groot en opreg dat dit alle sondaars insluit. “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Hy het alle mense liefgehad en na hulle neergebuig om hulle uit die kuil van vernietiging op te trek. Hy dra almal se ewige belange op die hart, en wil nie hê dat een verlore moet gaan nie, maar dat almal gered moet word (2 Pet. 3:9).

3. Dit is ‘n liefde wat kan vergewe en vergeet

God se liefde vergewe totaal en ongekwalifiseerd – só volkome dat Hy nooit weer een keer na die sonde wat vergewe is, verwys nie. Hy werp dit in die see van vergetelheid en dink nie weer daaraan nie. Hy reken die kwaad nie toe nie en verwyt mense nie vir sondes wat bely en laat staan is nie. Selfs al sondig sy kinders by herhaling, dan raak Hy nie teen hulle verbitterd nie, en vergewe maar weer. Jesaja 55:7 sê Hy vergeef menigvuldiglik.

Mense wat teruggeval het, soos bv. die verlore seun in die gelykenis, moet net bereid wees om na hulle Vader terug te keer en hulle saak met Hom reg te maak. Hulle sal in Hom ‘n liefdevolle en vergewensgesinde Vader vind wat opnuut vir hulle ‘n feesmaal in sy koninkryk sal berei. Hy sal hulle nie donker aankyk as hulle met berou na Hom terugkeer nie (Jer. 3:12).

Hoe anders tree die mens nie op nie, hoe onopreg is sy liefde nie, en hoe traag is hy nie om volkome te vergewe en ‘n saak vir altyd te bedek nie. Salomo sê: “Wie ‘n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ‘n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar” (Spr. 17:9).

Nie net vriende skei as gevolg van liefdelose beskuldigings nie, maar ook huweliksgenote. Mense wat nie met die liefde en vergewensgesindheid van God vervul is nie, raak maklik verbitterd teenoor mekaar, grawe ou koeie uit die sloot, en beskuldig mekaar opnuut oor en weer. Waar is die gesindheid van Christus, om dinge wat reggemaak is, nooit weer op te haal nie?

Ons het die volgende, baie duidelike opdrag oor vergewensgesindheid: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. En laat die vrede van God waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar” (Kol. 3:13-15).

4. Dit is die wet van die Nuwe Testament

Die geheim van ‘n lewe van volkome geestelike vervulling is om in die liefde van God gewortel en gegrond te wees. Dit is waarom ons in die Nuwe Testament net een wet het, en dit is die wet van die liefde. As jy die Here liefhet met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en met al jou kragte, dan sal jy aan Hom getrou bly en nooit die knie voor ander gode buig nie.

As jy jou naaste liefhet soos jouself, dan vervul jy al die ander wette wat die verhouding met jou medemens reël: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Rom. 13:10).

Goddelike liefde bepaal die aard en koers van ons lewe, daarom is ons nie onder die wet nie, en kan vrye uitdrukking aan Christus se liefde gee. Ons is aan die verhewe beginsel van goddelike liefde gebonde, en om dié rede moet liefde die hoofkenmerk van ‘n Christen se lewe wees. In sy hoëpriesterlike gebed het die Here Jesus aan die Vader gesê: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle” (Joh. 17:26). Aan die dissipels het Christus gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal die wêreld weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34-35).

5. Dit is grensloos

Ons kan geen grense stel of beperkings op die liefde van Jesus plaas nie. Ons moet bewus daarvan wees dat dit elke aspek van ons bestaan insluit. Paulus sê in sy gebed vir die Efésiërs: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus… dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens… julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Ef. 3:14-19).

Hoewel ons van die rykdom van God se liefde bewus kan wees, beteken dit nie dat ons dit ten volle kan deurgrond nie. God se liefde in Christus Jesus is onpeilbaar en grensloos. Dit is breër as die wêreld, dieper as die diepste see en hoër as die hoogste hemel. Ons staan in verwondering voor die onnaspeurlikheid van die Here Jesus se liefde en reddende genade. In Hom is alle skatte van wysheid en kennis verborge. Sy almag en liefde ken geen perke nie. Hy kan in elke behoefte van ons voorsien na die rykdom van sy genade. Hy sal ook nie tugtiging weerhou as ons dit nodig het nie.

Hierdie liefdevolle Verlosser trek vir jou en my na Hom toe met koorde van liefde. Hy wil ons nie net red en die ewige lewe aan ons skenk nie, maar ons volmaak en volkome in sy liefde bevestig.  Deur die Heilige Gees stort Hy sy liefde in ons harte uit. Hy maak van ons skynende ligte in ‘n donker en liefdelose wêreld, waarin ons sy getuies moet wees.

Is jou lewe volkome onder die beheer van God se herskeppende, onveranderlike en ewige liefde? Dan sal daar by jou ‘n groot verlange wees dat andere dit ook deelagtig moet wees. Jou grootste verlange sal egter na die koms van die hemelse Bruidegom wees wat spoedig sy bruid na ‘n hemelse ivoorpaleis sal wegvoer om vir ewig by Hom te wees (Ps. 45:9-10).

Die skoonheid van die bruid

In die boek Hooglied word daar baie oor die skoonheid van die bruid gesê, wat ‘n tipe van die bruid van Christus is. Hieruit moet dit vir ons duidelik wees dat ons met die skoonheid en reinheid van Christus beklee moet wees.

In Hooglied 1:8 sê die Bruidegom dat sy bruid die mooiste onder die vroue is. Sy het ‘n hemelse skoonheid wat ander vroue onder die mensekinders nie het nie. Sy is geroepe om onberispelik te wees in heiligheid. Die wêreld moet kan sien dat sy deur die liefde en skoonheid van die Bruidegom omstraal word.

“My nardus het sy geur gegee” (Hoogl. 1:12). In die tyd van Salomo, en ook lank daarna, is nardussalf en -olie as een van die kosbaarste parfuums gereken. Die bruid word deur die lieflike geur van nardus omring. Sy is hiermee gesalf, en dit dra ‘n onmiskenbare getuienis uit na almal wat naby aan haar is. Ons moet deur Christus ‘n lieflike geur wees (Ef. 5:2).

“My beminde is vir my ‘n tros hennablomme in die wingerde van Éngedi” (Hoogl. 1:14). Die hennastruik met sy lang trosse wit blomme staan ook as die bruidsblom bekend. Dit versprei ‘n besonder aangename geur. Die trosse blomme word soms deur vroue om hul nek gedra. Hoe paslik is dit nie om ‘n bruid met haar vlekkelose wit kleed en pragtige voorkoms met hennablomme in die wingerde van Éngedi te vergelyk nie!

“Soos ‘n lelie tussen die dorings, so is my vriendin onder die dogters” (Hoogl. 2:2). Die bruid het ‘n hemelse skoonheid en reinheid wat die ongereddes rondom haar nie het nie. Haar geestelike skoonheid en morele reinheid is in skrille kontras met die verdorwe karaktertrekke van ‘n ongeredde mensdom wat deur die sonde oorheers en ontsier word.

“Word wakker, noordewind, en kom, suidewind, deurwaai my tuin, laat sy balsemgeure uitvloei! Laat my beminde in sy tuin kom en van sy kostelike vrugte eet” (4:16). Die lewe van die bruid moet die lieflike geur van die genade en liefde van haar Bruidegom oral versprei. Die noordewind en die suidewind moet die geure uitdra. Benewens die bloeisels moet daar ook vrugte in die bruid se tuin wees. Haar lewe moet soos ‘n tuin wees waarin die Bruidegom die kostelike vrug van sy eie handewerk kan sien en geniet. Sy moet soos ‘n boom wees wat geplant is by waterstrome.

“(My susterbruid) is ‘n fontein van die tuine, ‘n put met lewende water wat van die Libanon afvloei” (Hoogl. 4:15). Die bruid moet ‘n fontein van lewende water hê wat uit haar binneste opborrel. Dit moet ‘n bron van verkwikking vir ander mense wees. Hierdie water kom van haar Bruidegom wat self die water van die lewe is, en wat dit deur die Heilige Gees aan sy beminde skenk.

“My duif in die rotsklowe, in die skuilplek by die krans... laat my u stem hoor” (2:14). Sy skuil in die veilige beskutting van ‘n rotsvesting, hoog in die berge. Van hier af moet sy haar roepstem in die klowe daaronder laat hoor, omdat sy ‘n duidelike boodskap aan die wêreld het. Ook wil die Bruidegom haar stem hoor wanneer sy lofliedere tot eer van sy Naam sing en Hom ook in die gebed aanroep. Sy moet nooit tot stilswye gedwing word en ophou om die lof van haar Verlosser te verkondig nie.

“Alles is mooi aan u, my vriendin, en daar is geen gebrek aan u nie” (Hoogl. 4:7). Hierdie skoonheid is deur die Bruidegom aan haar verleen. Deur ‘n verbintenis met Hom het die ou dinge verbygegaan; kyk, dit het alles nuut geword. Hierdie vernuwende aanraking vind noue aansluiting by wat Paulus in Efésiërs 5:25-27 van die hemelse Bruidegom sê: “Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Het u al geestelik só verander geraak deur die vernuwing van u gemoed, dat die skoonheid van die Here Jesus waarneembaar in u lewe gestalte verkry het? Ons is hiertoe geroep.

Die liefde van God het nie net tot die soendood van sy Seun gelei om die straf vir ons sonde te betaal nie, maar dit word ook ryklik deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort om ons hele lewe te verander. Ons word van gedaante verander om aan die beeld van Christus gelykvormig te word. Die vraag is of ons onsself aan hierdie vormende werk van die Heilige Gees oorgegee het? Paulus was in groot benoudheid oor die Galásiërs, “totdat Christus in julle gestalte verkry” (Gal. 4:19). Hulle was so traag om aan Hom gelykvormig te word, en sy liefde is so min in hulle lewens gesien.

Wat is die posisie met u en ek? Besef ons saam met al die heiliges wat die breedte, lengte en diepte van Christus se liefde is, en wandel ons daagliks daarin? Die Gees van God het gekom om hierdie liefde in jou hart uit te stort. Jy moet op só ‘n manier wandel dat ander dit kan sien.

Gebed: Hoe wonderlik, o Here, om deur u liefde en reddende genade herskep en verander te word na die beeld van u Seun. Gee dat ons in hierdie dae ‘n nuwe bewussyn sal verkry van die breedte, lengte, diepte en hoogte van u liefde, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God. Ons het nodig om iets meer van die onmeetlikheid en onnaspeurlikheid van u liefde en genade te verstaan, sodat ons die wêreld uit u oogpunt kan sien en ook u liefde aan die geestelik sterwendes rondom ons kan verkondig. Verlos ons daarvan om in ‘n klein wêreldjie van eiebelang vasgevang te raak, want dan sal die belange van u koninkryk nooit ‘n hoë prioriteit in ons lewens wees nie. Ons wil verkondigers wees van hierdie wonderlike liefde van God waardeur ons self gered is en die ewige lewe deelagtig geword het. Wanneer ons dít doen, sal u Gees ons lei en bekragtig om bruikbare instrumente in u hand te wees. Ons vra dit ter wille van ons liefdevolle Verlosser, Jesus Christus, wat Homself gegee het sodat ons in Hom lewe en oorvloed kan hê, amen.

 

4. Volharding van die Heiliges

Gebed: Dankie, o Here, dat U ons uit die duisternis geroep het tot u wonderbare lig. Dankie ook dat ons deur die krag van u Heilige Gees staande kan bly teen ‘n goddelose wêreld waarmee ons nooit enige kompromie mag maak nie. So baie Christene in ons tyd wil graag vriende van die wêreld én van God wees, maar omdat hulle twee here probeer dien, kom hulle nêrens in hulle geestelike lewe nie. Bewaar ons van dubbelhartigheid en gee dat ons lewens deur hertoewyding aan U opnuut op die weg van volkome heiligheid geplaas sal word. Ons is slegs veilig as ons in U bly, soos wat U in ons is. Die loot wat nie in U bly nie, verdroog en dra geen vrugte nie, maar die loot wat in U bly, word skoongemaak en geheilig sodat dit meer vrug kan dra. Lei ons deur u Heilige Gees in die hele waarheid en help ons om nie links of regs van u pad van geregtigheid af te wyk nie. Gee dat ons berou oor ons afdwalings sal hê terwyl daar nog tyd is om die saak reg te stel. Ons vra dit in die Naam van die groot Oorwinnaar, Jesus Christus, amen.

Ons moet op die pad van heiligmaking volhard. Nie almal doen dit nie, en beperk daardeur hulle geestelike groei, of kanselleer dit selfs uit. Die Here Jesus sê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Joh. 15:4-6).

Ons redding lê op die vlak van toegerekende geregtigheid. Dit is ‘n gawe wat deur die geloof ontvang word, en kan nie deur werke van enige aard verdien word nie. Paulus sê: “Uit genade is julle gered, deur die geloof... nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Ef. 2:8-9). In die volgende vers word werke egter beveel as ‘n integrale deel van ons lewe ná bekering: “Want ons is geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Ons moet aan ons heiligmaking werk, omdat dit op die vlak van meewerkende geregtigheid lê. As geredde mense word ons medewerkers van God deur Christus Jesus (1 Kor. 3:9). Die Here rus ons deur sy Heilige Gees toe om heilig te kan leef, maar ons moet aktief en doelgerig deur die Gees wandel en werke van toewyding doen sodat ons vrugte kan dra wat by die bekering pas (Matt. 3:8).

Wat behels volharding in heiligmaking alles?

Voordat ek in heiligmaking kan volhard, moet ek dit eers deelagtig word. Ek moet my van alle ondeug en boosheid bekeer en die ou, sondige natuur oorlewer om gekruisig te word. Ek moet die Here vertrou om my hart en lewe deur die bloed van die Lam te reinig en my met sy Heilige Gees te vervul. Hierna begin ‘n lewenslange proses van groei in heiligheid, waarin ek met volharding vrugte vir die koninkryk van God moet dra. In die gelykenis van die saaier sê die Here Jesus: “En [die saad] wat in die goeie grond val – dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra” (Luk. 8:15).

Wanneer jou hart gereinig is en ook deur die Heilige Gees met die liefde van Christus gevul is, kan jy die Here aktief begin dien. Hy waarsku jou egter dat dit nie maklik sal wees nie, omdat jy Hom onder moeilike en veeleisende omstandighede sal moet dien. Dit sal beslis volharding van jou verg.

Die Here Jesus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Dit is ‘n daaglikse proses van toewyding en hertoewyding aan die Here. Waarom moet die kruis van selfverloëning aanhoudend opgeneem word? Die vlees moet gekruisig bly, want hy soek geleentheid om van die kruis af te kom, te herleef en weer beheer oor jou lewe te verkry. Indien jy aan hom hierdie geleentheid bied, sal hy die Gees se werking in jou lewe teëstaan en jou weer na die wêreld begin terugtrek. Die Galásiërs het hulleself hieraan skuldig gemaak. Paulus sê vir hulle: “O onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie?... Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? (Gal. 3:1-3). Ongehoorsaamheid aan die Here se Woord het onder hulle ingetree, omdat hulle na valse profete geluister het wat leuens verkondig.

Behalwe die mens se eie neiging tot ongehoorsaamheid, is daar ook verskeie eksterne faktore wat jou van die pad van heiligmaking en toewyding aan die Here aftrek. Verkeerde vriende wat nie vaste beginsels en skrifgetroue oortuigings het nie, is een van die belangrike redes waarom sekere Christene weer begin wankel en die pad byster raak. Petrus sê: “Geliefdes, julle moet op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie” (2 Pet. 3:17). Die oplossing hiervoor, sê Petrus, is om in die genade en kennis van Christus toe te neem en in die geloof vas te staan (2 Pet. 3:18).

Moet nooit toelaat dat verkeerde vriende óf valse profete wat leuens verkondig, jou Christelike getuienis vernietig nie. Paulus sê vir die Kolossense: “Julle [moet] gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie” (Kol. 1:23). Volharding is op die pad van die Here nodig. Paulus sê vir die Hebreërs: “Ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14; vgl. 3:6). Ons moet onsself hiertoe verbind.

Timotheus kry ook die opdrag tot volharding. Paulus sê hy moet “aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Paulus noem een van hierdie geestelike skipbreukelinge se naam, nl. Himeneus, en sê van sulke mense: “Hulle woord sal voortwoeker soos ‘n kanker... [Hulle] het van die waarheid afgedwaal omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het, en hulle keer die geloof van sommige om” (2 Tim. 2:17-18). Daar is ook vandag baie teoloë wat dwalings oor die opstanding van Christus én die regverdiges verkondig en sodoende die geloof van baie mense omkeer. Nie almal volhard tot die einde toe op die regte pad nie!

In Lukas 15 word die hele hoofstuk daaraan gewy om ons plig ten opsigte van afgedwaalde gelowiges deur middel van drie gelykenisse te beklemtoon: die verlore skaap, die verlore penning en die verlore seun. Al drie moet gesoek en teruggebring word waar hulle hoort. Die verlore seun is deur liefde vir die wêreld oorkom, soos ook die geval was met Paulus se vriend, Demas (2 Tim. 4:10). Hierdie seun het die rug op sy vader gedraai en die verhouding tussen hulle verbreek. Hy het egter op sy dwaalweë tot besinning gekom toe dit in ‘n stadium baie sleg met hom gegaan het. Toe hy teruggekom het huis toe en die ouer broer ontsteld was omdat sy vader so ‘n ophef van sy jonger broer se herstel gemaak het, het die vader gesê: “Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind” (Luk. 15:32).

Tydens sy afdwalinge was die jonger broer dood in sy sonde en misdade, maar hy het weer lewendig geword, soos wat hy aan die begin was. Hy het deur sy eie toedoen verlore geraak, maar is geestelik ten volle herstel. Volgens Lukas 15 moet daar ‘n bediening onder teruggevallenes wees. Hulle moenie maar net aan hulle eie lot oorgelaat en deur die gemeente afgeskryf word nie. Dit is vir die Here só belangrik dat alles in werking gestel moet word om daardie een verlore skaap op te spoor en weer by die kudde te voeg.

Wat doen jy met mense wat geestelik struikel? Verwerp en beskuldig jy hulle? Paulus sê: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal. 6:1). “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:12). Afvalliges moet met liefde, maar ook op ‘n baie duidelike en ernstige manier, vermaan word. Sonde het die vermoë om die geloof in mense se harte aan te val en te verswak. As hierdie proses nie gekeer word nie, kan hulle dalk in ongeloof verval en geestelik heeltemal verhard raak.

Ek was ‘n paar jaar gelede in Estonia waar ek onder andere in ‘n evangeliese kerkie in Rakvere in die noorde van die land gepreek het. Die pastor het twee groepe gemeentelede gehad, die een Estoniessprekend en die ander Russiessprekend. Dié betrokke oggend was daar ook ‘n besoekende Sweedse sakeman in die kerk. Ná die oggenddiens was daar ‘n gemeente-ete en hy het langs my kom sit. Hy kon goed Engels praat en het aan my vertel dat hy en sy gewese vrou lank in Kanada gebly het. Hulle was aktiewe Christene en lidmate van ‘n plaaslike gemeente.

Ná ‘n tyd het daar ‘n derde persoon in hulle huwelik gekom, hulle is geskei en sy vrou is saam met die ander man weg. As gevolg hiervan het hulle altwee geestelik verval en heeltemal van die kerk en Christelike gemeenskap afvallig geraak. Hulle is terug in die wêreld en hy was baie verbitterd en ongelukkig, ook teenoor ander Christene wat openlik die rug op hulle gedraai het. Ná ‘n tyd het hy na ‘n kasset geluister oor hoe die Here die teruggevallenes (backsliders) kan en wil herstel. Hy het soos die verlore seun na die Here teruggekom. Hy het ook die kasset aan sy gewese vrou gestuur, maar sy het haarself heeltemal teen godsdiens verhard.

Hierdie man het toe aan my vertel hoedat die Here aan hom ‘n bediening onder backsliders gegee het, soos hy dit gestel het. Op sy sakereise ontmoet hy baie sulke mense, en in die meeste gevalle steur ander gelowiges hulle nie aan die afvalliges nie. Hy sê mens moet begrip daarvoor hê dat hierdie mense gewoonlik deur ernstige skokke, teleurstellings en trauma gegaan het, en dikwels selfs die Here daarvoor blameer. Daar moet weer hoop op herstel aan hulle gebied word. Volgens Hebreërs 12:14-15 het hulle veragter in die genade en het daar ‘n wortel van bitterheid in hulle harte opgeskiet.

Die duiwel val hierdie teruggevallenes dikwels aan deur aan hulle te sê dat hulle onvergeeflike sondes gedoen het, en nie weer deur die Here vergewe en aanvaar sal word nie. Dit is egter ‘n leuen, want by verre die meeste teruggevallenes het nie die Heilige Gees belaster en die bloed van Christus geminag deur dit doelbewus te vertrap en te verwerp, soos wat in die geval van Hebreërs 6 en 10 beskryf word nie. Hulle is net, soos die verlore seun, deur versoekings of ongetemde emosies oorkom, of deur teleurstellings platgeslaan. Ons moet dit in ‘n vroeë stadium raaksien as iemand begin dwaal en weer sonde doen – miskien wêreldse partytjies begin bywoon waar daar gedrink en oneerbare gesprekke gevoer word. Hulle moet ernstig vermaan word, omdat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak.

Paulus vermaan die Hebreërs só: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13). Ons gaan óf vooruit in ons geestelike lewe, óf ons stagneer en gaan weer agteruit. As ons nie geestelike groei na volwassenheid toon nie, kan ons ná ‘n tyd selfs ons geloofsekerheid verloor en sal dan weer van voor af tot bekering moet kom. Die Hebreërs het hulleself hieraan skuldig gemaak:

“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God” (Heb. 5:12–6:1).

Ons moet in ons geloofslewe vooruitgaan en ten alle tye volhard in heiligheid. Ons moet veral seker maak dat ons nooit by die werk van die Here onbetrokke raak nie, want dan gaan ons liefde teenoor Hom beslis afkoel. Ons almal het die opdrag om sy getuies te wees, en op een of ander manier móét ons daaraan uitvoering gee. ‘n Boom word aan sy vrugte geken. As daar nie godsvrug in ons lewe is nie, voldoen ons glad nie aan ons roeping nie. Dit is om hierdie rede dat Paulus sê: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Hy sê vir Timotheus dat hy homself moet oefen in die godsaligheid” (1 Tim. 4:7). Vir die Galásiërs sê hy: “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (Gal. 6:9). Die duiwel wil hê ons moet die stryd gewonne gee.

Die dra van oorvloedige vrug sal net gebeur as ons waarlik in Christus bly, daagliks deur Hom gereinig word en deur sy Gees gevul word. In Engels word dit the abiding life genoem – ‘n lewe wat voortdurend in Christus is. Die loot wat in Christus bly, word skoongemaak en gesnoei sodat dit veel vrug kan dra. Die loot wat nie in Hom bly nie, raak onvrugbaar en verdroog uiteindelik heeltemal. Die voorland daarvan is die vuur. Johannes maak baie van hierdie lewe in Christus. In sy sendbriewe noem hy dit dikwels, en wys op ons verpligting om ‘n Christus-gelykvormige lewe te lei: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6). As ons in Christus bly en sy gebod van die liefde bewaar, kan ons ook met vertroue na sy wederkoms uitsien: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Joh. 2:28).

In Openbaring noem Johannes die Christene wat op die weg van heiligmaking volhard, die oorwinnaars. Die Here Jesus sê vir hulle:

  • “Aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:26). Die volharding van die heiliges is nodig om die Here se werke tot die einde toe te kan bewaar.
  • “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie” (Op. 3:5). Daar sal ongelukkig ook diegene wees wat nie oorwin het nie, maar die Woord van die Here tot hulle ondergang verander en verdraai het. Hulle sal volgens Op. 22:19 nie die Here se koninkryk beërf nie.
  • “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon” (Op. 3:21). Hulle sal saam met Christus in sy vrederyk regeer.
  • “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir my ‘n seun wees” (Op. 21:7). Dit is belangrik hoe ons die wedloop begin, maar ook net so belangrik hoe ons dit klaarmaak.

“Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:1-4).

Broeders en susters, laat ons op die pad van die Here volhard en nie alleen die sonde aflê wat ons so maklik omring nie, maar ook die laste wat nie in sigself sonde is nie – dit is dié dinge wat ons tyd, geld en energie só in beslag neem dat ons nie heelhartig by die diens van Here betrokke is nie. Moenie deur teëstand afgeskrik word nie, want in hierdie bedeling volg ons die Christus wat deur die wêreld verwerp word. As ons egter saam met Hom ly, sal ons ook saam met Hom verheerlik word (Rom. 8:17). Paulus sê vir Timotheus: “As ons verdra, sal ons saam met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën” (2 Tim. 2:12). Die Here Jesus sê sy skape luister na sy stem en volg Hom (Joh. 10:27). Hulle sal nooit beskaamd staan nie, want hulle bly op die regte pad – in sonskyndae, maar ook tydens beproewings en aanslae. Vertrou die Here om jou van die Bose te bewaar.

Gebed: Ons is dankbaar, Here, dat U ‘n getroue Leidsman is wat ons in staat wil stel om ons eindbestemming in die nuwe Jerusalem veilig te bereik. Help ons om selfs onder die moeilikste omstandighede nie vir U te verloën of u Heilige Gees te bedroef nie, maar om aan te hou skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Bewaar ons daarvan om in die wedloop van die lewe moedeloos te raak, uit te sak en onder die teruggevallenes en misleides te eindig. Dankie dat U magtig is om ons staande te hou en van struikeling te bewaar, as ons net gehoorsaam is en bereid is om te volhard tot die einde toe. Ons besef dat daar vir Geesvervulde Christene toetse en beproewings op die weg is, maar ons neem ook die belofte aan dat ons in Christus Jesus meer as oorwinnaars kan wees. Ons bid vir diegene wat weens al die teëstand en teleurstellings die stryd gewonne gegee het, of dalk op die punt staan om dit te doen. Gee dat hulle die wonderlike beloftes in u Woord ter harte sal neem en die goeie stryd van die geloof sal voortsit. Die oorwinnaars sal in u geopenbaarde koninkryk saam met u regeer. Wat ‘n motivering om getrou aan U te bly. Vervul ons met u vasberadenheid en doelgerigtheid, om Christus ontwil, amen.

 

5. Geestelike Oorlogvoering

Gebed: Ons dank U, Here, dat ons U in hierdie Pinkstertyd vir ‘n nuwe aanraking met krag uit die hoogte kan vertrou. Hiersonder is ons weerloos in die stryd teen die Bose. Wat ‘n voorreg om deur u Heilige Gees onderrig te word in die volle waarheid van u Woord. Die lewende Woord spreek tot ons harte en stel ons in staat om daagliks in genade en kennis toe te neem. Hierdie Woord, wat die swaard van die Gees is, verleen ook aan ons geestelike weerbaarheid teen al die aanvalle van die vyand. Dit ontmasker al sy slim planne en pogings tot misleiding. Help ons om die leiding van u Heilige Gees getrou na te volg terwyl Hy deur die Woord tot ons spreek. Maak ons ook bereid om soos goeie krygsmanne van Jesus Christus verdrukking te ly wanneer dit oor ons mag kom. Dankie dat U ons onder alle omstandighede wil toerus en in staat stel om meer as oorwinnaars te wees. Wat ‘n voorreg om in die oorwinning van Golgota te leef en die lewensweg met vaste treë te kan bewandel. Ons bid dit met danksegging in die wondernaam van Jesus Christus, amen.

Wanneer ons oor die krag van die Heilige Gees praat, moet ons onthou dat dit twee verskillende toepassings in ons daaglikse lewe het. Eerstens is dit ‘n geestelike toerusting om ons in staat te stel om getuies vir Christus te wees: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8). Tweedens bekragtig die Heilige Gees ons om teen die vyand van ons siele te kan stryd voer en te oorwin. Paulus sê:

“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Ef. 6:10-13).

Wanneer die Bybel van geestelike oorlogvoering praat, het dit ‘n persoonlike toepassing op individuele gelowiges. Elke Christen moet ‘n geestelike wapenrusting aan hê sodat hy of sy staande kan bly teen die liste van die duiwel. Dit is belangrik om hierdie basiese feit in gedagte te hou, want daar is tans verskeie onbybelse toepassings van sg. strategiese geestelike oorlogvoering waarin sekere groepe gelowiges probeer om gebiedsdemone uit hele stede en lande te verdryf en sodoende ‘n geweldige herlewing in die hand te werk. Die Bybel sê egter vir ons dat die duiwel eers sy magsposisie in die wêreld daarbuite sal verloor wanneer Christus kom. Dan sal die Antichris en die valse profeet verdelg en Satan in ‘n bodemlose put gebind word.

Tydens die kerkbedeling moet ons juis van die teenwoordigheid en die werking van Satan en sy demone kennis neem en ons daarteen verweer. Dit is hiervoor dat daar ‘n geestelike wapenrusting aan ons gebied word. Wat dit betref, is daar ook ‘n verdere waarskuwing ter sake, naamlik die onbybelse benadering wat deur baie sg. bevrydingsbedienings gevolg word. Die wapenrusting beskerm ons teen ‘n vyand van buite, omdat Christene nie demone kan hê nie. Moet dus nie toelaat dat mense enige tekens van vleeslikheid of wêreldgesindheid by jou aan demoniese besetting toeskryf nie. Probleme van dié aard word nie deur duiweluitdrywing reggestel nie, maar deur sondebelydenis en ‘n oorgawe om opnuut deur die Heilige Gees vervul te word.

Wanneer Christene sondig, is dit ook nie te sê dat die duiwel regstreeks met hulle bemoeienis gemaak het nie. Hy weet goed dat versoeking deur die wêreld en die vlees ook op Christene inwerk om hulle te laat sondig. Jakobus sê: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde” (Jak. 1:14-15). Elke mens het sekere swakhede wat na sonde kan lei. Dit kan geldgierigheid, hoogmoed, humeurigheid, ernstige depressie, korrupsie of luiheid wees, of ook ‘n neiging tot leuens en buite-egtelike verhoudings. Die duiwel kan sulke begeerlikhede aanblaas, maar hy hoef hulle nie basies te skep nie – hulle is reeds daar. Ons moet weerstand bied teen elke neiging tot sonde, wat ook al die oorsprong daarvan mag wees.

Daar is wél sekere geleenthede in elke persoon se lewe wanneer die duiwel hom of haar spesifiek deur sy vernietigings- of misleidingswerk teiken. Dit is met die oog hierop dat Paulus sê: “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Ef. 6:13). Die dag van onheil is wanneer daar deur die Bose ‘n groot aanslag op jou gees, siel of liggaam gemaak word, of dalk op jou huwelik, jou werk, jou geldsake of op een van jou gesinslede. Ongelukke, rampe, inbrake en aanrandings vind wél plaas, omdat ons in ‘n gebroke, onveilige wêreld leef wat in die mag van die Bose lê. Ons weet nie wanneer daar dalk ‘n dag van onheil in ons lewe aanbreek nie, daarom moet ons altyd geestelik sterk staan, ook wanneer toestande rustig is en ons geen noemenswaardige aanslae of probleme ervaar nie. Wanneer daar skielik ‘n donker tyd aanbreek, dan sal ons staande bly en die krisis deur die Here se genade sonder geestelike letsels kan oorleef.

Ek wil nie ‘n oormatige duiwelbewustheid by u inskerp, sodat u later ‘n duiwel agter elke bos sal probeer raaksien nie. Ek wil ook nie onnodige vrees en selfs paniek by u skep oor moontlike rampe, gevare of ongelukke wat u mag tref nie. Ek wil bloot hê u moet besef dat ons in ‘n donker wêreld leef waarin daar ook vir Christene baie gevare skuil. Daar is beslis ‘n stryd om te stry, maar ook oorwinning te verkry. Die duiwel is nog nie gebind nie, en hy loop rond om sy vernietigingswerk te doen. Sorg dat jy nie deur geestelike laksheid, impulsiwiteit, onkunde oor die Woord, of as gevolg van jou vleeslikheid, ‘n maklike teiken vir hom is nie. Ons moet nie deur probleme platgeslaan en tot wanhoop en dalk ongeloof gedryf word nie. Ons moet begryp dat ons deur vele verdrukkinge in die koninkryk van die Here moet ingaan, daarom is dit in ons eie belang om so gou as moontlik ons krisisbestandheid deur bedrewenheid in geestelike oorlogvoering te verhoog.

Ons moet deeglike Bybelse kennis van die aard van die kerkdispensasie hê, want dit sal voorkom dat ons die omvang van die stryd waarin ons is, sal onderskat. Die wêreld lê volgens 1 Joh. 5:19 in dié bedeling in die mag van die Bose. Die Here Jesus het in Joh. 14:30 na die duiwel as die owerste van die wêreld verwys. Paulus sê in 2 Kor. 4:4 dat Satan die god van hierdie wêreld is wat die sinne van mense verblind. Hieruit behoort dit vir elkeen duidelik te wees dat ons nie nou as konings in ‘n vrederyk regeer nie, maar soldate van die kruis is wat in ‘n stryd teen die vyand van God se koninkryk gewikkel is. Die Here wil hê dat ons van sy wapenrusting gebruik sal maak, sodat Hy ons uit “die teenwoordige bose wêreld” kan uitred (Gal. 1:4).

Elke ware Christen wat deur die wedergeboorte van die heerskappy van Satan bevry is, is in ‘n geestelike stryd teen die mag van die Bose gewikkel. Nie een Christen is van dié stryd gevrywaar nie. Om hierin te kan oorwin, moet daar doelbewus in die krag van die Here teen die Bose weerstand gebied word. Hoewel hierdie stryd op ‘n geestelike vlak gevoer word, is dit ‘n baie werklike stryd teen ‘n groot en gedugte mag van demone onder die aanvoering van Satan. ‘n Geestelike oorlog word van verskillende fronte af teen gelowiges gevoer word. Ons gaan na drie van die hoedanighede kyk waarin Satan of een van sy trawante die gelowiges aanval, asook die noodsaaklikheid daarvan om op elk van dié terreine weerbaar te wees.

1. Teëstander

Die duiwel word in ‘n oorkoepelende sin as die Christen se teëstander beskryf, wat sy ondergang of skade op verskillende lewensterreine soek: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5: 8-9).

Hierdie posisie van konfrontasie is onvermydelik, want die duiwel is ons teëstander wat ons op allerlei wyses teëstaan en struikelblokke in ons weg probeer werp. Ons opdrag is om hom in die geloof te weerstaan en dus ook sý teëstander te wees. Ons moet nie ons oë vir sulke situasies sluit deur dit weg te redeneer nie. Baie mense skryf hulle probleme aan ander faktore toe en sien nie die aandeel van die vyand van hulle siele daarin raak nie. Sulke mense soek ook nie na geestelike oplossings vir hulle probleme nie. Hulle hoop maar vir die beste, aanvaar neerlae op ‘n fatalistiese wyse en vertrou net op sielkundige berading. Hulle is by voorbaat verloorders in die stryd.

Die intensiteit van Satan se teëstand ken geen perke nie, want as mensemoordenaar streef hy daarna om mense se lewens te vernietig. Oorloë, gevegte, noodlottige ongelukke, selfmoord, bakleiery en verskeie ander metodes word deur hom gebruik om aan sy moorddadige motiewe uiting te gee. Hy het nie onbeperkte mag oor mense nie, maar binne sy beperkte beweegruimte werk hy met groot lis om sy doel te bereik. Die duiwel en sy demone het ook ‘n groot aantal stadige metodes waardeur hulle mense se lewens probeer verwoes, soos bv. drank, dwelmmiddels en tabak.

Satan se aanvalle moet in die naam van die Here weerstaan en die stryd teen hom voortgesit word. Volg die voorbeeld van die Here Jesus in hierdie opsig, en stry in sy krag teen die magte van die Bose wat ook deur ander mense werk: “Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:3-4).

2. Verleier

Satan is aktief besig om mense op morele gebied tot sonde te verlei. Die vleeslike hartstogte en begeerlikhede van die ou natuur word vir hierdie doel uitgebuit. Deur sondige suggesties en die aanwakker van die ou, verdorwe natuur word mense tot sondige dade verlei. Die oplossing teen sondes van vleeslike verleiding is waaksaamheid, selfbeheersing en gebed: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26: 41). Moenie so maklik aan versoekings toegee nie.

Ons moet met groot vrymoedigheid in gebed na die genadetroon nader, want die Here Jesus is die Oorwinnaar wat meer as bereid is om ons te help om in die stryd teen versoekings te kan oorwin. Hy weet wat versoekings is, en deur sy krag en outoriteit kán dit oorwin word: “Deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb. 2:18). “Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:15-16). Maak van hierdie hulp gebruik!

Ons word ook telkens vermaan om onsself te verloën en die ou natuur te kruisig, anders is ons ‘n oop teiken vir morele sondes (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Trouens, as ons nié die ou natuur aflê en oorgee om gekruisig te word nie, sal oorwinning oor versoekings ons sekerlik ontwyk:

“Wat die vorige lewenswandel betref, [moet julle] die oue mens aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en vernuwe word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).

3. Misleier

‘n Verdere gedaante waarin die Satan teen gelowiges veg, is dié van misleier. Dit het met godsdienstige misleiding en bedrog te doen. Hy buit mense se onkunde uit en dis allerlei godsdienstige leuens aan hulle op om hulle op ‘n dwaalspoor te bring. Geestelike verval is die noodwendige gevolg hiervan: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Hulle sal in hulle onkunde dink dat hulle op die regte pad is.

Verval van hierdie aard is aan die orde van die dag in Christelike kerke (2 Tim. 4:1-4), terwyl geestelike bedrog en leuens ook die grondslag van al die nie-Christelike godsdienste in die wêreld vorm. In die eindtyd sal die gees van dwaling besonder aktief wees om die mensdom te mislei om die Antichris en sy valse profete te vereer en te aanbid. Jesus sê:

“Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5). Petrus sê:

“Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2).

Verderflike ketterye word in baie van die vooraanstaande universiteite se teologiese fakulteite ingevoer, en sodoende word predikante in hulle studiejare al bedrieg en mislei. Dit is vandag algemeen dat Jesus se maagdelike geboorte en godheid, sy opstanding uit die dood en die belofte van sy persoonlike wederkoms, asook die goddelike inspirasie van die Bybel, openlik en blatant deur ‘n groot aantal teoloë ontken word. ‘n Ander leuen wat toenemend gehoor word, is dat alle godsdienste dieselfde God aanbid en dus vir dieselfde wêreldmessias wag. Hierdie leuen kom ook van die vader van die leuens af en is daarop gemik om die weg vir die koms van die Antichris as die universele messias vir alle gelowe voor te berei.

‘n Gebrek aan kennis oor wat in die Skrifte staan, is die teelaarde vir godsdienstige misleiding. Dit is egter nie nodig om in onkunde voort te leef nie, omdat die volle waarheid oor geestelike sake in die Bybel opgeteken is: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8: 32). As ons Hom maar net wil toelaat, sal die Heilige Gees ons in die hele waarheid lei en ook die toekomstige dinge aan ons verkondig (Joh. 16:13).

Die eindtydse vormgodsdienstiges is deur Satan verblind en het deur hulle eie toedoen en onkunde die stryd teen godsdienstige bedrog en leuens verloor. Hulle het vir hulleself leuenpredikers versamel, die oor afgekeer van die waarheid en hulle gewend tot fabels (2 Tim. 4:3-4). Hulle voer dus nie ‘n geestelike oorlog teen die leuengees van dwaling nie, maar is reeds as buit deur die vyand weggevoer (1 Joh. 4:1-6).

Geestelike balans

Wanneer ons oor geestelike oorlogvoering praat, moet ons altyd onthou dat dit een van twee redes is waarom ons met die krag van die Heilige Gees beklee moet word. Die eerste rede is om krag te ontvang om ‘n getuie vir Christus te kan wees, en die twee rede is krag om in die stryd teen die Bose te kan triomfeer. Daar moet altyd ‘n balans tussen hierdie twee aanwendings van die Heilige Gees se krag wees: die positiewe identifikasie met Christus en sy koninkryk, en die negatiewe afwysing van Satan se pogings om ons te mislei en die spoor te laat byster raak.

Sommige mense gee nie aan hierdie twee sake die aandag wat elkeen verdien nie, en lei dan as gevolg daarvan baie skade. Sommiges wil hulleself nét met evangelisasie besig hou en gee nie genoeg aandag aan hulle geestelike weerbaarheid nie. Dit lei na gevaarlike onkunde oor die vyand se werkswyse, en dikwels kom sulke mense geestelik tot ‘n val. Die mat word onder hulle uitgetrek omdat hulle nie met die geestelike wapenrusting beklee was nie. Baie van hulle doen selfs uit onkunde aan ekumeniese pogings mee om strukture vir die Antichris se wêreldkerk te skep.

Aan die ander kant is daar weer diegene wat nét teen die duiwel, die Antichris en geestelike dwalings wil waarsku, sonder dat hulle by evangelisasie en die redding van siele betrokke is. Dan mis ons ons basiese doel as Christene in hierdie verdorwe wêreld. Ons moet ten alle tye die lig van die evangelie in ‘n donker wêreld laat skyn, sodat sondaars vir redding na die Here Jesus kan kom. Terselfdertyd moet ons besef dat ons geestelik gesproke op die terrein van die vyand is, en dus altyd daarop bedag moet wees dat daar ‘n vyand is om te weerstaan en te oorwin. Die Here wil van elkeen van ons oorwinnaars in die stryd maak. Vertrou Hom opnuut hiervoor.

Gebed: Dierbare Here Jesus, ons dank U vir die duidelike waarskuwings in u Woord dat ons by ‘n groot stryd teen ‘n geestelike vyand betrokke is. Die hele wêreld lê in die mag van die Bose en hy rig sy vurige pyle op die kinders van die Here in ‘n poging om ons te ontmoedig en geestelik te laat ontspoor. Dankie dat U die magte en owerhede oorwin het en aan ons ‘n geestelike wapenrusting bied sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Gee dat ons nie die groot stryd waarby ons betrokke is, sal onderskat en as gevolg daarvan sal nalaat om die wêreld, die duiwel en die sonde te weerstaan nie. Morele en geestelike verval is kenmerkend van ons tyd, en as gevolg hiervan verkoel baie Christene in hulle liefde teenoor U. Help ons genadiglik om nie deel van hierdie vervalproses te word nie, maar eerder op u waarskuwing ag te slaan toe U vir die dissipels gesê het: “Waak en bid dat julle nie versoeking kom nie.” U het ook vir hulle gesê: “Pas op dat niemand julle mislei nie.” Hierdie waarskuwings geld in die besonder ook vir ons, daarom bid ons vir krag, insig en vasberadenheid om nie van die reguit weg van u Woord af te wyk en slagoffers van die vyand te word nie. Ons vra dit in die Naam van die enigste Verlosser, Jesus Christus, in wie alle skatte van kennis en wysheid verborge is, amen.

 

6. Oorwinning in die Stryd

Gebed: Dankie, Here, dat U aan ons geestelike wapens gegee het wat kragtig in U is, sodat Satan se vestings in ons lewe neergewerp kan word, sy planne verbreek en elke gedagte gevange geneem kan word tot gehoorsaamheid aan Christus. Sonder hierdie wapens sal ons nooit staande kan bly in die felle stryd teen die koninkryk van die duisternis nie. Dit is vir ons ‘n groot bemoediging om in die Bybel te lees hoedat U telkens wanneer die dissipels hewig aangeval is en groot teëstand ervaar het, hulle opnuut met die Heilige vervul, bekragtig en bemoedig het om met hulle werk voort te gaan. Ons leef ook in ‘n tyd van groot aanvegtinge teen die evangeliese Christendom en sy Bybelse leerstellings, daarom bid ons dat U ons ook deur u Gees vir die stryd sal versterk. Ons weet volgens die profetiese woord dat die stryd na die einde toe nog hewiger sal raak, daarom bid ons vir nog meer oorwinningskrag. Maak van u kinders kragtige helde wat u Woord volbring, in getrouheid aan die stem van u Woord. Ons vra dit in die Naam van u Seun, wat Homself vir ons redding en heiligmaking opgeoffer het, amen.

Die feit dat alle Christene in ‘n geestelike stryd gewikkel is, kan nie betwis word nie, want dit word deur elkeen van ons ervaar. Hiervoor het ons verskeie geestelike wapens nodig wat die Here alleen aan ons kan voorsien. Paulus sê: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp...” (2 Kor. 10:3-4).

Daar is ‘n arsenaal van ten minste vyf van hierdie wapens van die lig wat vir geestelike oorlogvoering tot ons beskikking is. Ons moet nie net daarvan kennis neem nie, maar ook vaardig in die gebruik daarvan word. Wanneer ons dit bespreek, sal dit onmiddellik duidelik word dat hierdie wapens deel van ons gewone geestelike mondering as Christene is. Dit is bepalend vir ons verhouding met die Here, maar beslis ook ter sake in ons stryd teen versoekings en bose magte. Hierdie wapens is die volgende:

Geloof

My geloofsverhouding met die Here moet baie sterk en onwankelbaar wees, sodat ek my vertroue onder alle omstandighede volkome in Hom sal stel om van my meer as ‘n oorwinnaar in Christus te maak. Ek moet weet en glo dat Hy wat in my is, groter en sterker is as hy wat in die wêreld is (1 Joh. 4:4). Sonder geloof in die Oorwinnaar is ek weerloos in die stryd teen sonde en ongeregtigheid. Die volgende tekste onderstreep die feit dat ons in ‘n geestelike stryd is waarin ons geloof in die Here ‘n kragtige oorwinningswapen teen die Bose en al sy planne is:

  • “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Joh. 5:4-5).
  • “...neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (Ef. 6:16).
  • “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:12).
  • “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5:8-9).

Stry jy die goeie stryd van die geloof? Blus jy die vurige pyle van die Bose met die skild van jou geloof in die Here Jesus uit, of is jy oop en bloot vir al die verwarrende, verleidende en onrein gedagtes wat die Bose op jou afvuur? Verskans jou in Christus teen die aanvalle van die sielevyand: “Die Naam van die Here is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut” (Spr. 18:10). Onthou dat jy net in die Here Jesus alleen die oorwinning kan behaal – nooit in jou eie krag nie.

Die bloed van die Lam

Dit is belangrik om te begryp dat ons oorwinning op die kruisdood van die Here Jesus gebaseer is. Hy het ‘n menslike liggaam aangeneem, “sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel” (Heb. 2:14). Die bloed wat Jesus aan die kruis gestort het toe Hy sy lewe afgelê het, het krag oor al die versoekings en planne van Satan. Op grond hiervan kan alle sondes vergewe en die bande daarvan verbreek word: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).

Gedurende die komende groot verdrukking, wanneer Satan met dubbele woede onder die mense op aarde werksaam sal wees (Op. 12:12), sal die Christene van daardie tyd wél almal fisies as martelare sterf, maar geestelik sal hulle die Antichris “oorwin deur die bloed van die Lam” (Op. 12:11). Soek jy geestelik beskerming onder die bloed van Christus wanneer die duiwel jou aanval, en bid jy hierdie beskutting ook oor jou geliefdes en andere af vir wie jy intree? Hulle het almal dringend geestelike beskerming nodig.

Die bloed van Christus is geestelik lewegewend (Joh. 6:53-56), dit reinig ons voortdurend van sonde (1 Joh. 1:7) en verleen ook krag in die stryd teen die Bose (Op. 12:11).

Christelike getuienis

Om jou op die Here Jesus en sy oorwinningswerk aan die kruis te beroep, gaan hand-aan-hand met die vrymoedigheid om in die openbaar daarvan te getuig, asook die bereidwilligheid om vir sy Naam te ly:

“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie” (Op. 12:11; kyk ook Heb. 10:35; 13:13; Matt. 5:14-16).

Getuienis speel ‘n uiters belangrike rol in ‘n Christen se lewe. Daardeur bevestig jy jou geloof en doen ‘n basiese geestelike werk waarsonder jou geloof as dood beskou sou kon word (Jak. 2:14-26). Paulus verduidelik die noue verband tussen geloof en getuienis só: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding” (Rom. 10:9-10). Ons eerste belydenis is wanneer ons ons sonde en verlore toestand voor die Here bely en Hom vir vergifnis en verlossing vertrou. Daarna moet ons van ons redding voor ander mense getuig.

Ons het ‘n staande opdrag om die Here Jesus se getuies in ‘n donker en goddelose wêreld te wees (Joh. 20:21; Hand. 1:8). Hierdeur is daar al baie oorwinnings vir die kruis behaal en is die koninkryk van die hemele op ‘n kragtige wyse in baie wêrelddele uitgebrei. Sonder Christelike getuienis en prediking sou miljoene mense in geestelike duisternis voortgeleef het, met hulle sinne wat deur die god van hierdie wêreld [die duiwel] verblind word (2 Kor. 4:4). Ons moet vir vrymoedigheid bid om te kan getuig.

Gebed

Nog ‘n magtige geestelike wapen wat die Here aan ons gegee het, is gebed: “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (Jak. 5:16). Gebed werk saam met geloof: “...hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie – so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë” (Jak. 1:6-8). Om oorwinnende gebede te kan bid, moet ons “toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete” (Heb. 10:22). Ons moet dus rein en heilig leef. Ons moet ook in die Bybel vasstel wat die wil van die Here is, en in ooreenstemming daarmee bid: “Dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh. 5:14).

Op daardie oomblik wanneer ons tot die genadetroon nader en onsself in gebed aan die genade en almag van God onderwerp, dan vlug die duiwel van ons af weg: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7).

Wanneer ons sy aanslae ignoreer, as ‘n illusie wegredeneer, dit deur eie krag of slegs met mediese en sielkundige hulp probeer uitskakel, verdiep die probleem en word dit later monsteragtig groot. As ons egter ‘n gebedsaak daarvan maak, en ook andere se voorbidding verkry, neem ons ons toevlug tot die Here en dan verswak die vyand se greep op ons dadelik. Deur volhardende gebed sal ons volkome bevryding verkry, en die sielevyand sal op die vlug slaan. Hy sal later weer terugkom, maar dan behoort ons te weet waar ons hulp en sterkte is: in gebed neem ons ons toevlug tot die Here wat ons altyd sal uitred. As hulp in benoudheid is Hy in ‘n hoë mate beproef.

Die Woord

Die Bybel is ‘n belangrike deel van die Christen se geestelike wapenrusting, daarom sê Paulus: “Neem die swaard van die Gees op – dit is die woord van God” (Ef. 6:17). Dit is ‘n lewende en kragtige woord wat tot diep in ons lewe indring en sy oortuigingswerk daar doen:

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Heb. 4:12; kyk ook Joh. 6:63 en Jer. 23:29).

Die Bybel is die finale maatstaf vir die waarheid, en in die lig daarvan beoordeel ek gedagtes as goed of kwaad. Omdat die Woord soos ‘n skerp swaard is wat tot in die dieptes van my siel indring, kan dit die aard van my gedagtes en motiewe ten volle openbaar. Dit werk saam met my gewete om aan my te toon wat reg en verkeerd is.

Die evangelie van Jesus Christus is ‘n dinamiese krag tot redding vir elkeen wat glo (Rom. 1:16). Dit het die vermoë om elke ongeredde persoon uit satansmag te verlos as hy daaraan glo. Die Woord het ‘n outoriteit en krag wat deur die Here self onderskryf en gewaarborg word: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen” (2 Kor. 1:20). Maak seker dat jy elke dag die vrymakende krag van die Woord in jou lewe ervaar en in die lig daarvan wandel: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Moet nooit van hierdie beproefde riglyne afwyk nie: “Maak my voetstappe vas in u Woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie” (Ps. 119:133).

Die pad van versoekings

Hoe moet ons hierdie geestelike wapens aanwend wanneer ons versoek word om sonde te doen? Dit is belangrik om te weet dat alle sondes wat ons doen, by gedagtes begin. Bose gedagtes moet gevange geneem en onderwerp word. Paulus sê: “Die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor. 10:3-5).

Die vier stadiums waardeur ‘n persoon gaan wanneer hy sondig, word almal in hierdie gedeelte genoem. In ‘n omgekeerde orde, van die beginpunt van sonde af, is dit eers sondige gedagtes wat bedink word, dan die opbou van skanse vir die regverdiging daarvan, dan planne vir die uitvoering van sonde, en uiteindelik die vorming van vestings van sonde in sy lewe. Kom ons kyk kortliks wat hierdie vier stadiums behels.

Sondige gedagtes. Verkeerde idees en voornemens is die vertrekpunt vir sondige dade. Hierdie gedagtes en slegte begeertes kan uit die mens se eie onderbewussyn en vleeslike natuur na vore kom (Jak. 1:14-15), dit kan die gevolg wees van dinge wat hy sien of lees (Matt. 5:28; 1 Joh. 2:15-16), of dit kan uit verkeerde gesprekke voortspruit (1 Kor. 15:33). ‘n Ander bron van sondige gedagtes is regstreekse beïnvloeding deur die duiwel. Hy kan vurige pyle op jou afvuur (Ef. 6:16), waardeur hy verkeerde gedagtes by jou plant. Soms kan hierdie gedagtes goed voorkom, maar dan is dit nogtans ‘n bedekte aanval op jou Christelike waardes. Om hierdie rede moet alle gedagtes gevange geneem word tot die gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor. 10:5). Indien dit nie gedoen word nie, raak hierdie bose gedagtes gevestig en word ‘n oorsaak tot sonde.

Skanse vir die regverdiging van sondige voornemens. Indien daar nie teen sondige gedagtes weerstand gebied word nie, dan beteken dit dat hulle stilswyend aanvaar en mettertyd in jou hart en verstand gevestig raak. Hierna soek jy morele regverdiging om uitvoering daaraan te gee. Jy beredeneer die saak dan na alle kante toe en begin om jou sondige voorneme goed te praat. In die proses bou jy ‘n skans vir die leuen in jou lewe. Jy gebruik en verdraai selfs die Bybel om morele en godsdienstige regverdiging vir jou beplande dade te kry. Die duiwel het ‘n Bybelteks aangehaal toe hy die Here Jesus versoek het (Luk. 4:9-11), en hy gebruik nog steeds hierdie metode om die Bybel te verdraai om ‘n skans teen die ware kennis van God op te bou. Só beweeg hy jou om in ‘n leuen te lewe en jou deur misleiding teen die  basiese waarhede in God se Woord te verset.

‘n Plan van aksie. Noudat die sondige gedagte gevestig én geregverdig is, moet ‘n strategie, of plan van aksie, vir die uitvoering daarvan uitgewerk word. Daar is geen einde aan die vindingrykheid, bose planne, skelmstreke, geheime ontmoetings en knoeiery waarmee mense vorendag kom om uitvoering aan sondige idees te gee nie. As hierdie planne nie verbreek word nie, word hulle uitgevoer en kom die sonde tot volle verwerkliking.

‘n Sondige vesting. Wanneer die sondige daad gepleeg word, word ‘n oorwinning vir die magte van die duisternis in die persoon se lewe behaal. ‘n Vesting word dan vir die betrokke sonde opgerig waarin dit homself ingrawe en verskans. Die persoon word dan ‘n slaaf van daardie sonde en doen dit oor en oor, “...want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword” (2 Pet. 2:19; vgl. Joh. 8:34). Met verloop van tyd word die verslawing erger, die vesting van Satan word versterk en nuwe vestings kom by.

Die ontwikkelingspad van sonde is dus duidelik. Dit begin by die gedagtes wat ongehoorsaam aan Christus is, dan word dit geregverdig, daarna word planne beraam om dit uit te voer, en uiteindelik word die sondige dade gedoen en raak in jou lewe gevestig. Ons moet egter nie wag tot die sonde gepleeg is voordat ons weerstand bied nie, want dan is die skade klaar gedoen. Wanneer die verkeerde gedagte homself voordoen, moet dit in die lig van God se Woord beoordeel, as sonde beskou en verwerp word. Dan word die proses in die kiem gesmoor nog voordat die sonde gedoen is.

Gebruik die Woord as ‘n vaste en onveranderlike maatstaf van reg en verkeerd, en erken die gesag daarvan. Gebruik die wapen van gebed en behaal die oorwinning op jou knieë: “Onderwerp julle dan aan God, weerstaan die duiwel en hy sal van julle wegvlug.”

Indien jy egter in jou gedagtes die sondige voorstel aanvaar, geregverdig en daarna uitgevoer het, moet jy dit dadelik voor die Here bely, sodat die sondige vesting verbreek en jy daarvan gereinig kan word. Dawid het gebid:

“Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil en ondersteun my deur ‘n gewillige gees” (Ps. 51:11-14).

Dawid kon homself baie verdriet en ellende gespaar het as hy in ‘n vroeë stadium teen sondige gedagtes en begeerlikhede weerstand gebied het. Dit is die eerbare weg wat ons almal moet volg as ons meer as oorwinnaars in Christus Jesus wil wees. Indien jy egter gestruikel het, moenie in die sonde bly lê nie. Staan onmiddellik op, kom terug na die kruis en maak die saak weer reg. Vertrou die Here om jou te reinig en opnuut met die volheid van sy Gees toe te rus. Word kragtig in die Here en trek die volle wapenrusting van God aan sodat jy staande kan bly teen die liste van die duiwel.

Gebed: Begenadig ons, Here Jesus, om in hierdie Pinkstertyd kragtig te word in U en in die krag van u sterkte. Ons wil graag die volle wapenrusting van God aantrek, sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Stel ons genadiglik in staat om vaardig in die gebruik van die wapens van die lig te word, sodat ons oorwinnaars in die stryd teen boosheid en sonde kan wees. Ons verbind onsself opnuut tot Bybelstudie sodat ons meer intensief van die beloftes in u Woord gebruik kan maak wanneer ons aangeval of aan misleiding blootgestel word. Ons verbind onsself ook tot meer gebed omdat ons uit ondervinding weet dat ‘n biddelose Christen ‘n kragtelose Christen is. Versterk ons geloof en getuienis sodat ons onder moeilike omstandighede vas sal staan in die Here, nooit in u genade sal veragter of in u verlossing sal twyfel nie. As hulp in benoudheid is U in ‘n hoë mate beproef. Gee dat ons onsself altyd op die oorwinning van Jesus Christus aan die kruis sal beroep, omdat Satan en sy magte weerloos hierteen is. Mag U ons as waaksame, biddende en oorwinnende Christene aantref wanneer U kom om ons te kom haal. Ons vra dit om Christus ontwil, amen.

 

7. Die Regte Profetiese Perspektief

Gebed: Ons dank U, Here, vir die vaste wete dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie, omdat ons op pad is na ons ewige woning in die hemel. Abraham het ook hierdie verwagting gehad en homself uitgestrek na ‘n wonderlike toekoms saam met U. Hy het as ‘n vreemdeling in tente gewoon omdat hy die stad verwag het wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Gee dat ons ook hierdie profetiese vergesig oor die lewe hierna sal hê, en dat dit ons sal aanspoor om skatte in die hemel bymekaar te maak. Bewaar ons daarvan om nou, in die kerkbedeling, ‘n aardse koninkryk na te jaag waaroor die mens self heerskappy wil voer. Valse verwagtings van hierdie aard lei tot die verwerping van Bybelse profesieë oor groot afvalligheid in die laaste dae. Sulke mense verwag nie die wegraping voor die verdrukking, en die openbaring van die Antichris direk daarna nie. Gee dat ons nie hierdie profetiese waarskuwings oor ‘n donker tydperk van verdrukking sal ignoreer net omdat dit met ons visie van ‘n mensgemaakte, aardse koninkryk in botsing is nie. Help ons om in die lig van die profetiese woord te wandel totdat U ons kom haal, sodat ons teen die toenemende verval van die eindtyd sal waak en met sekerheid die komende toorn van God oor die ongelowiges sal ontvlug. Ons vra dit om Jesus ontwil, amen.

Inbegrepe by dit wat die Heilige Gees op pinksterdag vir die ganse kerk van Christus kom doen het, was om aan ons die regte toekomsverwagting te gee. Die Here Jesus het gesê: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei... en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Joh. 16:13). Die Heilige Gees het alle Bybelse profesieë geïnspireer, daarom verwag die Here van ons om daarvan kennis te neem en ons lewens daarvolgens in te rig. Paulus sê: “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:19-20).

Petrus sê: “Ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:19-21).

Ons geestelike lewe word ten nouste geraak deur gebeurtenisse wat ons in die toekoms verwag, omdat ons onsself daarop instel en voorbereid wil wees vir dit wat gaan gebeur. Ons reaksie op die tekens van die tye bepaal ook ons huidige beoordeling van wêreldgebeure en help ons om nie valse verwagtings oor die onmiddellike óf die verre toekoms te koester nie. Die volgende onderwerpe is almal ter sake wat ons toekomsverwagting betref:

Israel se herstel

Een van die belangrikste profetiese temas in die Bybel is die eindtydse herstel van die volk Israel in die land wat die Here aan hulle gegee het. Hy het vir Israel gesê: “Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17). Die Heilige Gees wil aan ons duidelike begrip vir hierdie saak gee, omdat dit een van die toekomstige dinge is wat Hy aan ons verkondig.

Ons moenie die profesieë oor Israel vergeestelik en op die kerk toepas nie. Die belofte van terugkeer na die land Israel is net aan die Jode gegee en is hoegenaamd nie op die kerk oordraagbaar nie. Die kerk is beslis nie die geestelike Israel nie. Die geestelike Israel of die Israel van God verwys na geredde Jode en onderskei hulle van die ander wat ortodoks of sekulêr is. Net die gereddes wat Jesus as Messias aanvaar, is die ware Israeliete of Jode. Hulle word Messiaanse Jode genoem. Paulus sê van geestelike Jode: “Nie hý is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie... maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God” (Rom. 2:28-29).

Diegene wat Bybelse profesieë bestudeer, het ‘n liefde vir die volk Israel, erken hulle reg op die land Israel en die stad Jerusalem en bid ook vir hulle geestelike herstel. Hulle verstaan die scenario wat besig is om in die Midde-Ooste te ontvou, en weet dat dit op die sewe jaar lange verdrukking onder die bewind van die Antichris gaan uitloop. Hulle weet ook volgens Johannes 5:43 dat dié Jode wat nie vir Jesus as Messias aanneem nie, tot hulle eie ondergang ‘n verbond met die Antichris sal sluit. Dieselfde beginsel geld vir alle nie-Jode – hulle is óf volgelinge van die ware Christus, óf wegbereiders vir die komende Antichris. Die Jode én die nasies moet oor hierdie lewensbelangrike keuse wat hulle sal moet maak, ingelig word.

‘n Baie belangrike teken wat ons oor die eindtyd het, is die herstel van Jerusalem. Die Here Jesus het gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Jerusalem is in ‘n gevorderde stadium van herstel. Die Here Jesus het beloof om ná die verdrukking, tydens ‘n groot militêre beleg deur die wêreldmagte van die Antichris, na Jerusalem terug te keer, sy voete op die Olyfberg te sit, sy vyande te verdelg, die oorblyfsel in Israel te red en Jerusalem die hoofstad van sy vrederyk te maak (Sag. 14:1-17; Hand. 15:16-17; Op. 19:19-21; Jer. 3:17).

‘n Misleide en moreel vervalle wêreld

Ons moet veral ook perspektief oor geestelike sake hê. Die Heilige Gees waarsku ons deur middel van die profetiese woord dat die wêreld in die eindtyd al hoe boser en slegter sal word. Die belangrikste oorsaak hiervan sal geestelike verval wees wat só erg sal wees dat leerstellings van duiwels in groot dele van die Christelike kerk aanvaar sal word: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle gewete” (1 Tim. 4:1-2). Die valse leraars wat hierdie leuens sal verkondig, se gewete sal só toegeskroei wees dat hulle geen probleem sal hê om die ergste dwalings te verkondig nie.

Die valse leerstellings wat verkondig word, sal met opspraakwekkende tekens en wonders gepaard gaan, en om dié rede sal dit baie populêr by die misleide massas wees. Die valse profete sal hoog in aansien wees, openlik geld bedel en skatryk word. Paulus sê: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4). Die Here Jesus het self teen valse profete gewaarsku wat hulle groot gehore deur tekens en wonders sal mislei (Matt. 24:11,24).

Petrus het daarop gewys dat die valse leraars van die eindtyd glad nie sal skroom om die Here Jesus self te verloën nie (2 Pet. 2:1-2). Hulle doen dit deur sy maagdelike geboorte en godheid te ontken, asook sy liggaamlike opstanding uit die dood, en só van Hom net ‘n gewone mens te maak. Op hierdie manier word van Jesus ‘n ander Jesus gemaak, wat daartoe sal lei dat die Antichris in sy plek as die Christus van alle gelowe aanvaar sal word wanneer hy kom. Omdat ons teen dwalings van hierdie aard gewaarsku is, moet ons des te meer seker maak dat ons dit geheel en al verwerp.

Groot morele verval is ook kenmerkend van die eindtyd. Paulus sê: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars... bandeloos, wreed... verraaiers, roekeloos, verwaand... mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim. 3:1-5). Hierdie moreel erg vervalle mense van die eindtyd het nogtans ‘n gedaante van godsaligheid, wat beteken dat hulle ongeredde kerkmense is. Hulle het die wederbarende krag van die Heilige Gees verloën omdat hulle net lippediens aan die Christendom bewys.

Onder die heidene buite die kerk gaan dit nóg erger. Die Here Jesus sê dat dit in die eindtyd soos die dae van Noag en Lot sal wees (Luk. 17:26-30). In Noag se tyd was ‘n geweldskultuur in bose samelewings aan die orde van die dag (Gen. 6:5,13), en in Lot se tyd is groot stede deur aggressiewe gay-gemeenskappe gekenmerk. Ons ervaar ‘n herhaling daarvan vandag.

Indien mens van hierdie profesieë oor die eindtyd kennis neem, kan jy jouself soveel beter teen die bose tydsgees verset en seker maak dat jy nie deur die groter wordende gety van morele permissiwiteit en goddeloosheid meegesleur of ontmoedig word nie. Christene wat nie sterk staan nie, sal geestelik agteruitgaan. Die Here Jesus het gesê: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12).

Maak ‘n studie van Bybelse profesieë en besef dat jy in die eindtyd alles in die stryd moet werp om regverdiger en heiliger te word, omdat diegene wat vuil is, nog vuiler sal word, en dié wat onreg doen, nog meer onreg sal doen (Op. 22:11). Ons leef in die tyd van die groot afval, en dit sal vir seker vasberadenheid van ons kant af verg om enduit te skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag.

Dispensasionele onderskeid

Die Heilige Gees gee aan ons verligte oë van die verstand om die verborgenhede van God se raadsplan vir die mens reg te kan verstaan. Dit is van die grootste belang dat ons duidelik tussen die bedeling van die wet (dit is Israel in die Ou Testament), die Nuwe Testamentiese bedeling van die kerk, die toekomstige bedeling van die Antichris se regering van sewe jaar, en die bedeling van Jesus Christus se duisendjarige koninkryk ná sy wederkoms, sal kan onderskei. Elk van dié bedelings het sy onderskeidende kenmerke en moet hoegenaamd nie met mekaar verwar word nie.

Die suiwerheid van die Nuwe Testamentiese bedeling van genade, asook ons profetiese verwagting van dit wat in die toekoms gaan gebeur nadat die Here sy bruidsgemeente kom haal het, is ten nouste daarvan afhanklik dat ons nie die kerkbedeling met die kenmerke van enige van die bedelings voor of ná dit sal vermeng nie. Ons moet onder die leiding van die Heilige Gees die woord van die waarheid reg sny (2 Tim. 2:15), wat beteken dat ons alle Bybelse stellings in hulle regte dispensasionele verband moet verstaan en toepas. Groot verwarring bestaan tans op hierdie terrein.

Ons moet duidelik verstaan dat die Ou Testamentiese bedeling van die wet verbygegaan het, en dat ons in die Nuwe Testament nie onder die wet is nie, maar onder die genade (Rom. 6:14). “Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4). Daar moet dus geen poging hoegenaamd aangewend word om gelowiges weer in enige opsig onder die wet te plaas nie, soos bv. om sabbatsvieringe op Saterdae verpligtend te maak, want dan word daar afbreuk aan die genadewerk van Christus aan die kruis gedoen. Die Galásiërs wou die wet en genade vermeng, en Paulus het vir hulle gesê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4).

Die Nuwe Testamentiese tyd word ook die bedeling van die Heilige Gees genoem, omdat Hy ons van sonde oortuig, ons wederbaar, vervul en die liefde van God in ons harte uitstort. Iemand wat God en sy naaste waarlik liefhet, het die beginsels van die wet vervul en leef geestelik op ‘n hoër vlak as die gelowiges van die Ou Testament. Hulle het net die letter van die wet gehad, en nie die Heilige Gees om hulle in die hele waarheid te lei nie.

Ons moet net so versigtig wees om nie die kerkbedeling met enige van die toekomstige bedelings te verwar nie. Die Antichris en sy goddelose regering van sewe jaar wat ná die wegraping ‘n aanvang sal neem, moet in geen opsig as deel van die kerkbedeling beskou word nie. Daar is baie mense wat dit nogtans doen, deur profesieë oor die Antichris histories te verklaar. Hulle beweer dat die kerkbedeling en die Antichris se bedeling gelyklopend is, en dat Nero of sekere van die pouse in die Middeleeue reeds alle profesieë oor die Antichris en die groot verdrukking vervul het.

Die Bybel is egter baie duidelik daaroor dat die Antichris eers geopenbaar sal word nadat sy teëhouer – die ware kerk van Christus wat die tempel van die Heilige Gees is – van hierdie verdorwe aarde af weggeneem is. Dan sal die Antichris as valse messias en wêreldleier geopenbaar word vir die aanvang van sy relatief kort regering van sewe jaar. Aan die einde van sy skrikbewind sal hy tydens die wederkoms deur Christus verdelg word, en dit is ‘n onbetwisbare bewys dat hy ‘n eindtydse leier sal wees. Paulus sê:

“En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:6-12).

In Openbaring 19:19-20 word dit ook bevestig dat die Antichris tydens die wederkoms van Christus op aarde aan bewind sal wees. Jesus Christus verwys ook in sy profetiese rede na hierdie vreeslike tyd wat direk voor sy wederkoms op aarde sal aanbreek:

“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie... En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:21,29-30).

Ons het die belofte om die oordele van die Antichris se skrikbewind deur middel van die wegraping te ontvlug, net so seker as wat Noag en Lot ook die goddelike oordele in hulle tyd ontvlug het: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36; vgl. 1 Thess. 4:16-17). Wat ‘n motivering is dit nie vir heiligmaking en ‘n rein, vrugbare lewe om die verwagting op die ontmoeting met die hemelse Bruidegom te hê nie!

In die laaste instansie moet die kerkbedeling ook nie met die toekomstige koninkryksbedeling van Christus se vrederyk ná sy wederkoms verwar word nie. Dit word in ons tyd algemeen gedoen, en lei na die baie groot dwaling van koninkryksteologie. Hierdie mense glo nie dat ons vreemdelinge en bywoners in ‘n wêreld is wat in die mag van die Bose lê (1 Pet. 2:11; 1 Joh. 5:19), en dat ons ‘n stryd moet voer om teen die Bose staande te bly nie, maar sien hulleself as geroepe om nóú, voor Christus se wederkoms, die koninkryk van God sigbaar op aarde te laat neerdaal. Dit lei na ‘n teologie van tekens en wonders deur selfaangestelde profete en apostels wat hulleself as klein godjies beskou. Hulle bevorder kerkeenheid en uiteindelik die eenheid van alle gelowe, asook transformasie-byeenkomste, om die koninkryk met al sy voorspoed, vrede en eenheid nou te laat kom.

Ons is nie in hierdie bedeling tot sulke beskouings en aksies geroep nie. Ons leef in ‘n wêreld wat weens sy sonde en ongeloof op die oordele van God en die openbaring van die Antichris afstuur. Evangeliese Christene beleef moeilike tye omdat hulle nie met die ekumeniese beweging kompromie wil maak nie. Ongereddes moet soos brandhout uit die vuur geruk word, en besef dat hulle die verdorwenheid van die wêreld én die misleiding van ‘n valse geloof moet ontvlug. Ons moet nóú saam met Christus ly en verwerp word as ons in die toekomstige koninkryksbedeling saam met Hom wil regeer (Joh. 15:18-20; Fil. 1:28-29; 2 Tim. 2:12).

Mense wat nóú koninkrykshervormings verkondig en nalaat om die mensdom te waarsku teen die toorn van God wat aan die koms is (1 Thess 1:10), word nie deur die Heilige Gees gelei nie, maar deur verleidende geeste wat ‘n menslike agenda bevorder wat in stryd met God se raadsplan is (2 Kor. 11:4; 1 Tim. 4:1). Vertrou die Heilige Gees om die toekomstige dinge aan jou te verkondig en jou die vermoë te gee om die profesieë reg te verstaan.

Gebed: Wat ‘n wonderlike vooruitsig het ons, Here Jesus, om by die bruilofsmaal van die Lam met U verenig te word en daarna vir altyd by U te bly! Hierdie toekomsverwagting van ‘n lewe in die hemel is vir ons ‘n sterk aansporing om op die smal weg te volhard en nie deur beproewings en swaarkry ontmoedig te word nie. Wanneer ons Bybelse profesieë ernstig opneem, dan help dit ons om die regte toekomsverwagting te hê en ook voorbereid te wees vir dit wat gaan gebeur. Help ons om nie die profetiese woord te verdraai en as gevolg daarvan valse verwagtings oor die toekoms te koester nie. Dankie dat U self die môrester is wat in ons harte opgaan en vir ons die waarborg is van ‘n helder nuwe dag wat spoedig oor hierdie donker wêreld sal aanbreek. Wanneer ons laat in die nag die môrester bokant ‘n donker horison sien verskyn, dan herinner dit ons aan u geheime verskyning om u bruidsgemeente te kom haal. Dan sal ons in u heerlike teenwoordigheid wees en daardeur ook die komende verdrukking ontsnap. Wanneer ons later saam met U na die aarde terugkeer, sal die donker nag van sonde en ongeregtigheid verby wees. Gee dat ons vir hierdie groot geleentheid waardig sal wees, om Jesus ontwil, amen.

 

8. Rekenskap Voor die Regterstoel

Gebed: Ons aanbid U, Here Jesus, as ons Verlosser én ons Regter. U stel dit aan u dissipels duidelik dat ons ná die wegraping voor u regterstoel sal verskyn sodat ons werke en lewenswandel aan ‘n vuurproef onderwerp kan word. Ons is duur gekoop met die kosbare bloed van die Lam, daarom behoort ons aan U en verbind onsself daaraan om U te dien en te eer. U beveel ons om vrugte dra wat by die bekering pas, en onsself daarvan weerhou om met hout, hooi en stoppels op die fondament, Jesus Christus, te bou. Skerp tog by ons die oortuiging in dat ons aan ’n baie belangrike saak verbonde is wanneer ons ‘n besluit neem om volgelinge van Jesus te word. Ons is diensknegte aan wie die groot taak opgedra is om getuies vir U in die wêreld te wees. Maak ons getrou in die uitvoering van hierdie groot opdrag, sodat ons met vrymoedigheid voor die regterstoel van Christus rekenskap van ons lewens sal kan gee. Ons is diep van u Heilige Gees afhanklik om ‘n lewe te lei wat vir U welbehaaglik is, omdat die werke wat ons as gelowiges moet doen, as die vrug van die Heilige Gees beskryf word. Mag ons lewens tot die eer van u Naam veel vrug dra, amen.

Die Heilige Gees is op pinksterdag uitgestort om die kerk van Christus te bekragtig om die evangelie oral op aarde te verkondig sodat siele gered kan word. Hierdie werk word eerstens gedoen sodat verlore sondaars die oordeel van die hel kan ontvlug deur uit die duisternis oor te kom na die Here se wonderbare lig. Hiervoor het Jesus Christus ons in die wêreld uitgestuur. In die tweede plek word dit met die oog op die toekomstige openbaring van Christus se koninkryk gedoen. Ons moet onsself daarvoor beywer dat soveel as moontlik mense deelgenote van hierdie wonderlike koninkryk sal wees, want dit sal eer aan die Here se Naam bring. In die derde plek doen ons dit omdat ons nie slegte diensknegte wil wees wat eendag met leë hande voor Christus se regterstoel sal verskyn nie. Tot die eer van sy naam wil ons krone ontvang wat weer uit erkentlikheid aan sy voete neergelê kan word.

Dit is nie maklik om in ‘n bose, ongelowige en vyandige wêreld getuies vir Christus te wees nie. Daar is ‘n prys om hiervoor te betaal, want ons moet bereid wees om soldate vir die kruis te wees wat dikwels verwerp sal word omdat Jesus Christus ook deur die meerderheid mense verwerp word. Ons is nie konings wat nou reeds saam met Hom regeer nie. Ons moet deur die vooruitsig van loon in Christus se koninkryk gemotiveer word om aan te hou werk en ons teen sonde en goddeloosheid uit te spreek. Dit sal ons beslis nie populêr maak nie! Moses het “verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag as al die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning” (Heb. 11:25-26).

Ons moet voorbereidings tref om voor die regterstoel van Christus te verskyn. Petrus sê die tyd is daar dat die oordeel in die huis van die Here moet begin (1 Pet. 4:17). Dit verwys na die oordeel oor die werke van gelowiges. Dit is waarom die Here Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12). Wanneer die Here kom, kom Hy om sy diensknegte te beloon en die sondaars te straf: “U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Op. 11:18). Die Here gaan sy diensknegte vir hulle arbeid beloon en die sondaars in die tyd van verdrukking straf.

Alle Christene het ‘n afspraak voor die regterstoel van Christus, of hulle goeie diensknegte was of nie. Sommige sal loon ontvang, terwyl ander met leë hande daar sal staan. Die feit is dat die Here se diensknegte rekenskap van hulleself sal moet gee. Paulus sê aan die gemeente in Korinthe:

“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10).

Die woord “kwaad” kan ook met “nutteloos” vertaal word. Daar gaan baie werke van mense wees wat op dié dag nutteloos gaan blyk te wees omdat dit geen ewigheidswaarde het nie. Die Here Jesus sê aan elke gemeente: “Ek ken jou werke…” Hy gaan elkeen volgens sy werke vergeld, of dit goed is of nutteloos. Aan die Christene in Rome rig Paulus dieselfde boodskap: “…ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word… so sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:10,12).

Paulus verduidelik aan die Korinthiërs in veel meer detail hoe die werke van gelowiges aan God se vuurproef onderwerp sal word. Hieruit blyk dit duidelik dat dit geloofswerke is wat ná bekering gedoen word omdat dit op die Rots, Jesus Christus, gebou word. Die werke van sommige Christene sal egter verwerplik wees omdat dit vleeslik is. In die lig hiervan toon Paulus aan dat ons as medewerkers van God ‘n besliste taak het om in sy koninkryk te verrig. Ons moet egter oppas hoe ons dit doen – nie in die krag van die vlees nie, maar in die krag van die Heilige Gees:

“...elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:8-16).

‘n Paar sake is uit hierdie gedeelte baie duidelik:

  • Die fondament van bekering, wat die begin van ‘n nuwe lewe in Christus is, moet éérs in ons lewe gelê word voor ons vir die Here kan begin werk.
  • Ná ons bekering het ons ‘n opdrag om vir die Here te werk deur ons lig in die wêreld te laat skyn en sy getuies te wees. Ons moet medewerkers van God in die uitbreiding van sy koninkryk op aarde wees.
  • Dit is nie vanselfsprekend dat ons altyd net aanvaarbare werke onder die leiding van die Heilige Gees sal doen nie, omdat ‘n Christen ook nuttelose dinge in die krag van die vlees kan doen (1 Kor. 3:1-3). Hierdie werke is die hout, hooi en stoppels wat nie ewigheidswaarde het nie, daarom is dit vir God verwerplik. Geen loon sal daarvoor ontvang word nie.
  • Aan diegene wat onaanvaarbare werke in die vlees doen, word die vraag gevra: “Weet julle nie dat die Gees van God in julle woon nie?” Hulle moet hulle lewens aan die beheer van die Heilige Gees oorgee en in sy krag die Here begin dien. Dit is standaard Christenskap.

Die Here Jesus het in ‘n gelykenis in Lukas 19:11-27 ook na die dag verwys wanneer sy diensknegte rekenskap van hulle lewens aan Hom sal moet gee. Hy sê dat Hy aan elkeen van hulle ‘n pond gegee het wat op die instaatstellende krag van die Heilige Gees dui, m.a.w. ‘n godgegewe werksvermoë in sy koninkryk. Hulle het dus geen verskoning om niks te doen nie.

Wanneer Hy as Koning terugkom, sal Hy heel eerste sy diensknegte ontbied om loon toe te ken ooreenkomstig die arbeid wat hulle verrig het. Aan dié een wat met sy pond tien ponde wins verdien het, sal Hy sê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19:17). ‘n Ander een kry gesag oor vyf stede, en dié een wat sy pond in ‘n doekie toegedraai het en met leë hande voor sy Heer verskyn, word sterk verwyt. Hy kry geen loon nie omdat hy niks gedoen het nie, alhoewel hy een van sy Heer se diensknegte was.

Die volgende vyf krone word aan die oorwinnaars beloof:

1. Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewe

Daar is bepaalde reëls wat ons in die wedloop van die lewe moet eerbiedig indien ons oorwinnaars wil wees wat iets konkreets vir die saak van die Here bereik. Paulus het die volgende na analogie van atlete se toewyding gesê:

“Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle dit sekerlik kan behaal. En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles – hulle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike” (1 Kor. 9:24-25).

Die atlete sorg dat hulle gesond bly, hulle rook of drink nie en eet reg. In die wedloop van die lewe moet jy jouself ook van alle skadelike [sondige] gewoontes weerhou wat jou vordering kan vertraag: “…laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus” (Heb. 12:1-2).

Toewyding van hierdie aard gaan met hartsreiniging en die vervulling met die Heilige Gees gepaard: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Dit vereis selfdissipline, daarom oefen ek myself in die godsaligheid (1 Tim. 4:7) en kasty my liggaam om dit diensbaar te maak. Hiervoor sal ek ‘n onverwelklike kroon ontvang – nie, soos die atlete, net ‘n verwelklike lourierkrans en ‘n kort oomblik van roem nie.

2. Die kroon van roem vir sielewenners

Die groot taak wat Christus aan sy dissipels opgedra het, is dié van wêreldevangelisasie. Toe Hy ná sy opstanding in die bovertrek aan die dissipels verskyn het, het Jesus gesê: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Later het Hy die opdrag aan hulle herhaal: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Mark. 16:15; vgl. ook Matt. 28:19-20).

Die kroon van roem word aan diegene beloof wat ander mense na Christus toe lei. Paulus sê in sy brief aan die gemeente van Thessalonika: “Wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms?” (1 Thess. 2:19). So sal alle ander mense wat verlore siele na Jesus toe lei, ook die kroon van roem voor die regterstoel ontvang.

3. Die kroon van heerlikheid vir getroue herders

Petrus sê dat ‘n predikant of geestelike leier ‘n herder is wat die kudde moet lei. Hy moet dit nie met murmurering doen nie, en ook nie met die oog op selfverryking nie. Hy moet nie ‘n harde en ongenaakbare meester wees nie, maar ‘n navolgenswaardige voorbeeld stel en waak oor hulle belange. As hy dit nougeset doen, sal die Here aan hom die kroon van heerlikheid gee:

“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang” (1 Pet. 5:2-4).

Dit is duidelik dat predikers ‘n swaarder oordeel as ander mense sal ontvang as hulle nie hul werk doen soos wat die Here dit van sy geroepenes en gesante verwag nie. Dit behels onder meer dat hulle die volle raad van God moet verkondig, veral die boodskappe van wedergeboorte, heiligmaking en die wederkoms. Die Here sal die ongeredde mense se bloed van hulle hande eis. Aan die ander kant sal hulle ryklik beloon word as hulle getroue herders was wat die werk van die Here met ywer en nougesetheid gedoen het.

Weens die groot verval van die laaste dae het getroue en bekwame herders wat die woord van die waarheid reg sny, baie skaars geword. Die meerderheid sal ter wille van populariteit, en ook onder die beïnvloeding van hulle kollegas wat valse profete is, die weg van kompromie volg en ‘n valse evangelie verkondig. Maak seker dat u in u gemeente met die onvervalste melk van die Woord bedien word, en saam met u leraar met vrymoedigheid voor die regterstoel van Christus sal kan verskyn. As dit nie die geval is nie, moet u dadelik onder die vormgodsdienstiges uitgaan (2 Tim. 3:5).

4. Die kroon van die lewe vir Christen-martelare

Die kroon van die lewe word aan elkeen beloof wat sy lewe ter wille van sy geloof aflê. Die Here sê vir die martelare: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Op. 2:10).

Deur die eeue heen was daar getroue diensknegte van die Here Jesus wat bereid was om ten koste van hulle veiligheid, hulle werk, hulle gesinne, en selfs hulle eie lewe, die vlam van geloof in ‘n vyandige wêreld omhoog te hou. Hulle het die volle implikasies van Christus se woorde besef toe Hy gesê het: “Kyk, Ek stuur julle soos lammers onder die wolwe” (Luk. 10:3). Ook het Hy gesê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê” (Joh. 16:33). Christene is die afgelope byna 2000 jaar op verskillende maniere vervolg, verdryf, bespot, geïntimideer en in strafkampe gesit, terwyl miljoene die hoogste prys vir hulle geloof betaal het. Die Here sal hulle spesiaal hiervoor beloon.

By die kategorie van martelare is ook ingesluit diegene wat ‘n swaar kruis van beproewing in hulle lewe moes dra. Volgens Jakobus 1:12 sal hulle beloon word as hulle getrou bly. Daar is baie mense wat gestrem is, of gestremde kinders het, wat siek of verlam is, wat onderdruk, misken of verwerp word, of wat dalk werkloos, arm, honger of sonder huisvesting is. Hulle word almal bemoedig om die geloof te behou en op hulle moeilike weg te volhard. Sommige van hulle kry uitkoms in hierdie lewe en ander nie. Die hoofsaak is dat hulle tot die einde toe getrou moet bly en wag op die volmaaktheid wat ons eendag in die hiernamaalse lewe sal hê (2 Kor. 4:16-18; Heb. 11:35).

5. Die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefhet

Om die Here se koms lief te hê, vereis ‘n ingesteldheid op dinge met ewigheidswaarde. Jy moet skatte in die hemel bymekaarmaak waar mot of roes nie verniel en waar diewe nie inbreek en steel nie. As jy sê dat jy die Here Jesus se koms liefhet, dan sê jy dat Hy jou Koning is, dat jy by die vestiging en uitbreiding van sy koninkryk betrokke is, en dat jy uitsien na die dag wanneer Hy as Koning geopenbaar sal word.

Intussen is jy ‘n vreemdeling en ‘n bywoner op aarde omdat jou ewige tuiste nie hier is nie. Paulus het die goeie stryd van die geloof gestry terwyl hy die koninkryk van Christus in ‘n heidenwêreld gevestig het. Kort voordat hy weens sy geloof tereggestel is, het hy opnuut sy sterk verwagting op die koms van Jesus en sy koninkryk van geregtigheid uitgespreek:

“Ek het die goeie stryd van die geloof gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:7-8).

Nadat die kinders van Here hulle verheerlikte liggame en krone voor die regterstoel van Christus gekry het, sal hulle rondom die troon van die Lam hulle plekke inneem om saam met Hom die aarde in geregtigheid te oordeel. Dan sal die sewe seëls van die boekrol van God se oordele in die hemel gebreek word, en sal die Antichris skielik as ‘n valse vredevors op die toneel verskyn. Omdat sy teëhouer dan weg is, sal hy homself met groot misleiding kan openbaar en in verwondering deur die hele misleide wêreld gevolg word.

Ons is baie naby aan die tyd waarin die oordeel van die Here in sy huis gaan begin. Is jy werklik gereed om voor die regterstoel van Christus te verskyn en van jou lewe rekenskap te gee? Hy het oë soos vuurvlamme, waarvoor daar niks bedek is nie. Hy ken selfs elke gedagte wat jy ooit bedink het. As jy nie deur sy kosbare bloed van alle sonde en ongeregtigheid gereinig is nie, sal jy nie eers saam met die gelowiges voor die regterstoel verskyn nie. ‘n Mens word nie dáár van jou sonde gereinig nie – dit moet hier op aarde voor die koms van Christus gebeur. Dan alleen sal jy vrymoedigheid hê om voor Hom te kan verskyn en as ‘n goeie dienskneg beskou te word.

Gebed: Here Jesus, U wat ons uit die duisternis tot u wonderbare lig geroep het, het ons ook deur die Heilige Gees toegerus en bekwaam gemaak om vir U te kan werk. Ons dank U opnuut vir die uitstorting van die Heilige Gees as die vervulling van daardie wonderlike belofte: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees...” Help ons om só te leef en te werk vir U dat ons uit u mond die woorde sal hoor: “Mooi, so, goeie en getroue dienskneg; oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou Heer.” Watter onuitspreeklike vreugde sal dit nie wees wanneer ons krone as genadeloon by U sal ontvang nie: die onverwelklike kroon vir ‘n heilige lewe, die kroon van roem vir sielewenners, die kroon van heerlikheid vir getroue herders, die kroon van die lewe vir Christenmartelare en die kroon van geregtigheid vir dié wat u koms liefhet. Bewaar ons tog van ‘n passiewe en doellose lewe wat daartoe sal lei dat baie gelowiges as slegte diensknegte met leë hande voor U sal verskyn. Vervul ons met u Heilige Gees sodat ons as mense van God volkome sal wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. Ons wil aan U getrou bly al die dae van ons lewe, en vra dit net tot die eer van die u grote Naam, amen.

 

9. Verlossing aan die Kruis

Gebed: Ons aanbid U, Here Jesus, as die Seun van God wat Uself oorgegee het om aan ‘n kruishout op Golgota die straf vir ons sonde te betaal. Watter onuitspreeklike voorreg is dit nie om deur U in genade aangesien te word en van al ons sonde en ongeregtigheid gereinig te word nie! U het ons van die duisternis van verlorenheid af na u ewige heerlikheid geroep. Aan almal wat U aangeneem het, het U ook belowe om die Heilige Gees as Trooster en Leidsman te stuur om ons in die hele waarheid van u Woord te lei. Ons herdenk op hierdie Pinkster-Sondag daardie wonderlike gebeurtenis van die uitstorting van u Gees oor 120 dissipels wat in verootmoediging op die vervulling van dié belofte gewag het. Watter groot dinge het U nie tot die eer van u Naam deur die eeue heen bereik deur die getuienis van ‘n relatief klein groepie getroue dissipels nie. Wat ‘n voorreg om onder hulle gereken te word, en wat ‘n voorreg om vir so ‘n belangrike taak deur u Heilige Gees toegerus te word. Ons buig in diepe dankbaarheid voor u genadetroon en bid dat die Naam van die Here Jesus in ons lewens verheerlik sal word, amen.

Die groot boodskap wat die Heilige Gees op alle dissipels van Jesus se harte druk, is die kruisevangelie. Hy maak die gekruisigde Christus ‘n werklikheid in ons lewens, want dit is die rots waarop ons geloof berus. Identifikasie met die kruis van Christus is ook die grondslag vir die tweede genadewerk van heiligmaking. As ons saam met Hom sterf, sal ons ook saam met Hom leef. Paulus het gesê hy verkondig Christus wat gekruisig is (1 Kor. 1:23). Sonder die verkondiging van die Here Jesus se bloed wat aan die kruis vir die versoening van ons sonde gestort is, kan niemand gered word nie: “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof” (Rom. 3:25).

In die ses ure waarin die Here Jesus sy lewe aan die kruis afgelê het (dit was van 9-uur die oggend tot 3-uur die middag – in Israel is dit tussen die 3de en 9de uur van die dag) het Hy baie min gepraat. Die sewe uitsprake wat Hy wél gemaak het, het saam minder as ‘n minuut geduur. Nogtans was dit die mees betekenisvolle woorde van vergifnis, reddende genade, vertroosting en oorwinning oor die magte van Satan wat Jesus Christus te midde van intense sterwensnood uitgespreek het. Dié woorde was die volgende:

1. “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34). Jesus het sy grenslose liefde en genade getoon toe Hy tydens sy onregverdige veroordeling en teregstelling vir sy oortreders gebid het. Voor sy kruisiging het Hy al vir die geestelik verblinde inwoners van Jerusalem gebid. Hulle het groot ellende en internasionale verstrooiing in die gesig gestaar omdat hulle die gunstige tyd toe God hulle deur sy Seun besoek het, nie opgemerk het nie. Hierdie gebed van begenadiging vir sy oortreders is verhoor deurdat duisende Jode deur die eeue heen vir Jesus as Messias aangeneem het. In die eindtyd sal daar ook ‘n groep wees wat sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom sal ween (Sag. 12:10).

2. “En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem” (Joh. 19:26-27).

Jesus het met hierdie uitspraak veel meer as net die versorging van sy moeder, Maria, in gedagte gehad. Hy dra hier ook sy moeder (Israel) aan die sorg van sy dissipel (die kerk) op. In die Ou Testament word Israel dikwels as ‘n getroude vrou voorgestel uit wie die Messias gebore sou word. Jeremia 31:4 verwys na die jonkvrou van Israel, terwyl Jesaja 54:5 Israel ook as ‘n vrou beskryf. In Openbaring 12 verwys die vrou en haar manlike kind wat die nasies met ‘n ystersepter sal regeer, na Israel en die Here Jesus.

Die kerk het beslis ‘n taak om Israel te vertroos, te bemoedig, te versorg en dié volk ook jaloers te maak oor manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur haar Seun, Jesus, dien (Rom. 11:11-12).

3. “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk. 23:43). Aanvanklik het die rowers wat saam met Jesus gekruisig is, altwee met Hom gespot en Hom beledig (Matt. 27:44). Later het die een tot die besef van sy sondigheid en van Jesus se regverdigheid gekom, en om genade gepleit (Luk. 23:39-42). Die Here Jesus het dadelik op hierdie hartsverandering gereageer en aan ‘n verlore sondaar die sekerheid van die ewige lewe gegee. Hierdeur het Hy ‘n belofte gestand gedoen wat deur die eeue heen tot vandag toe nog steeds geld: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh. 6:37).

Uit die wonderbaarlike bekering van ‘n geharde sondaar aan die kruis, weet ons dat die groot Geneesheer juis vir geestelik sterwendes gekom het, en nie vir diegene wat hulleself regverdig en meen dat hulle sonder Jesus se reddende genade kan klaarkom nie. Ons weet ook dat daar geen sonde is wat so groot is dat dit nie volkome en onmiddellik vergewe kan word nie. Verder weet ons dat daar sterwensgenade is vir enigeen wat die vallei van doodskaduwee betree, solank hy of sy in die geloof die hand na die Here Jesus uitstrek. Ons sien in hierdie gebeurtenis ook dat bekering ‘n geloofstap is wat sonder die bemiddeling van ander mense óf die beoefening van ‘n sakrament gedoen kan word. Dit onthef ons egter nie van ons verpligting om met die evangelie na ander mense uit te reik nie, want “die geloof is uit die gehoor,” daarom moet die boodskap dat Jesus red tot aan die eindes van die aarde weerklink (Rom. 10:17-18). Die rower aan die kruis was deel van die Gólogta-gebeure en kon regstreeks op grond daarvan ‘n besluit neem. Ons opdrag is om alle mense op aarde met hierdie feite te konfronteer.

4. “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46). Van 12-uur af tot 3-uur die middag toe Jesus aan die kruis gesterf het, het daar duisternis oor die aarde toegesak (Mark. 15:33). Dit was ‘n aanduiding dat daar, geestelik gesproke, donker wolke van die hele mensdom se sondes oor die Here Jesus gehang en skeiding tussen die veroordeelde Seun en sy Vader gebring het. Jesus het vrywillig as onskuldige die plek van ‘n misdadiger ingeneem sodat die sondes van alle mense op Hom gelê kon word en Hy die regverdige straf daarvoor kon uitdien. “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:5).

Die Vader het die ongeregtigheid van ons almal op Jesus laat neerkom (Jes. 53:6), en Hom sodoende die voorwerp van sy toorn oor die sonde gemaak. “Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor. 5:21). Op hierdie oomblik toe sy Seun deur die sondeskuld van ‘n verlore mensdom bedek is, het die Vader van Hom af weggekyk. Jesus was besig om te sterf, en in daardie angsvolle oomblikke alleen aan die kruis het Hy in sy menslike natuur uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Hy het volkome die plek van alle verlore sondaars ingeneem wat van God verlate is, en wat deur die donkerte van goddelike toorn en oordeel omring word.

5. “Ek het dors” (Joh. 19:28). Persone wat gekruisig is, het ‘n geweldige dors beleef, en hulle het na water gesmag terwyl hulle die dood in die gesig gestaar het. In ‘n Messiaanse Psalm wat op die dood van Jesus dui, het Dawid dit só beskryf: “My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood” (Ps. 22:16).

Christus se dood was iets veel erger as ‘n gewone mens se dood. Hy is deur die totale sondelas van ‘n gevalle mensdom gekonfronteer en moes onder die toorngloed en oordele van God sy lewe aflê: “...my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande” (Ps. 22:15). Hy was inderdaad in ‘n plek van godverlatenheid waar ‘n ewige dors heers. Die verlore ryk man was terdeë van hierdie dors bewus toe hy sy oë in die doderyk oopgemaak het (Luk. 16:24). Jesus het alleen die straf namens ons gedra.

In hierdie én die vorige kruiswoord wat Jesus kort voor sy dood uitgespreek het, word die groot teenstellings van die Gólgota-gebeure uitgedruk:

  • Die grootste antitese waaruit al die ander teenstellings voortvloei, is dat Jesus gesterwe het sodat ons kan lewe (Joh. 3:16).
  • Jesus was van God verlate sodat ons nooit deur God begewe of verlaat sal word as ons deur Christus met Hom versoen is nie (Heb. 13:5).
  • Omdat Jesus dors was, kan Hy ons geestelike dors les sodat ons in ewigheid nooit weer dors sal kry nie (Joh. 4:14; 6:35).
  • Hy het naak aan die kruis gehang, sodat ons met die klere van heil beklee kan word (Joh. 19:23; Rom. 13:14; Op. 3:18).
  • Hy het arm geword, sodat ons deur sy armoede die rykdomme van God se genade deelagtig kan word (2 Kor. 8:9).

6. “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Luk. 23:46). Jesus het self sy lewe afgelê en stel met hierdie woorde sy gees in die hande van sy Vader. Hy het dit gewillig en bewustelik gedoen (Joh. 10:17-18). Direk hierna, met sy laaste asem, het Hy gesê:

7. “Dit is volbring!” (Joh. 19:30). Die Griekse weergawe van Jesus se sterwenswoord is tetelestai. Hierdeur word die voltooiing van sy sending om die losprys vir ons sonde te betaal, uitgedruk. Omdat die doodstraf volgens die eis van God se geregtigheid uitgedien moes word (Rom. 6:23), kon Jesus nie hierdie woord uitspreek voordat sy sterwensoomblik aangebreek het nie. Dit was die kritieke oomblik van sy verlossingswerk aan die kruis. In die tyd van Jesus het die woord tetelestai ‘n besondere betekenis gehad, wat in ag geneem moet word as ons ten volle wil begryp wat Hy hier gesê het. Vir die mense van daardie tyd het dit veel meer inhoud gehad as vir ons vandag.

In die eerste plek is die woord tetelestai in Bybelse tye as die sleutelwoord op ‘n kwitansie gebruik. Dit het die betekenis gehad van ten volle betaal. Het die gedagte ooit by jou opgekom dat die Here Jesus jou gekoop het toe Hy sy bloed gestort en sy lewe vir jou afgelê het? Paulus herinner ons hieraan wanneer hy sê: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:20). Petrus sê: “Julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Die getuienis van die ouderlinge in die hemel bevestig die feit dat hulle ten volle daarvan bewus is dat hulle lewens deur die bloed van die Lam gekoop is: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9).

Het jy die versekering dat jou sondes betaal is? Voldoen jy aan die vereistes van bekering en die belydenis van jou sondes ten einde vergifnis daarvoor te kan verkry? Die Bybel sê: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spr. 28:13; kyk ook 1 Joh. 1:8-9).

Tweedens was dit in antieke tye algemene praktyk om die klagstaat van ‘n gevangene aan sy seldeur vas te spyker. Die oortredings waarvoor hy veroordeel is, is daarop aangeteken, asook die vonnis wat hom opgelê is. Nadat hy sy tronkstraf uitgedien het, is die klagstaat van die seldeur verwyder en uitgekanselleer deur in groot letters daaroor te skryf: TETELESTAI (Ten volle uitgedien). Daarna is dit aan die betrokke persoon oorhandig, en niemand kon hom ooit weer vir dié oortredings aankla nie – hy het die vonnis uitgedien en daardeur die prys vir sy misdade betaal.

In ‘n geestelike sin is alle mense gevangenes van Satan, “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23). Aangekla deur hulle sonde is hulle in die mag van Satan waar hulle in sy dodeselle hulle verhoor en veroordeling na die ewige dood voor die groot wit troon afwag. Die tronkbewaarder is die duiwel self, en geen persoon kan homself uit sy mag bevry en die doodstraf wat op hom wag, vryspring nie.

Om verlore sondaars te kan red, het Jesus Christus gewillig die doodstraf uitgedien wat in beginsel reeds oor alle sondaars uitgespreek is (Rom. 6:23). Ná sy opstanding uit die dode is Hy in ‘n posisie om die klagstaat van elke verlore sondaar uit te kanselleer deur met sy bloed daaroor te skryf: Tetelestai – die vonnis is betaal. Paulus sê: “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael” (Kol. 2:13-14). Die straf vir alle sonde is ten volle aan die kruis betaal.

Is al die sondes waarvoor die duiwel jou by die troon van God aangekla het, uitgewis deur die bloed van die Lam? Indien wel, dan kan niemand jou ooit weer hiervoor aankla en beskuldig nie. Dit maak nie saak hoe ernstig hierdie oortredinge was nie, want die straf daarvoor is reeds ten volle betaal. Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus jou vrygekoop het (Gal. 5:1).

‘n Derde gebruik vir die term tetelestai was in verband met suksesvolle militêre operasies teen die vyand. Wanneer ‘n generaal van die slagveld af teruggekeer het, het hy van sy krygsgevangenes in die strate geparadeer en sy oorwinning geproklameer deur uit te roep: Tetelestai... tetelestai... Deur hierdie uitroep van oorwinning is ‘n duidelike stelling gemaak, naamlik die oorwinning is behaal, of die sending is voltooi (Eng. “mission accomplished”).

Hoewel dit Jesus se sterwenswoord aan die kruis was, het Hy sy oorwinning oor die vyand aangekondig deur uit te roep: Tetelestai! Om te sterwe was vir Hom ‘n groot oorwinning, “sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was” (Heb. 2:14-15). Dit was ‘n groot triomf oor die vyand van ons siele: “Hy [het] die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kol. 2:15). Die Here Jesus het wél oor die vyand getriomfeer, maar Hy het hom nie uitgewis nie. Die duiwel is steeds baie aktief op aarde, daarom word ons opgeroep om deelgenote van die oorwinning op Gólgota te word (Rom. 8:37).

Dit was hoogs dramatiese oomblikke toe Jesus sy lewe aan die kruis afgelê en daardeur die Verlosser van ‘n verlore mensdom geword het. Dit het die Nuwe Testamentiese bedeling ingelui, wat ‘n wonderlike verskil in die mens-God-verhouding gemaak het.

Die voorhangsel in die tempel het van bo na onder in twee geskeur. Hierdeur is vrye toegang na die genadetroon van God vir elke persoon verseker. In die Ou Testament kon slegs die Hoëpriester een keer per jaar die Allerheiligste betree om met die bloed van offerdiere versoening vir die volk se sonde te doen. Die gebroke liggaam en gestorte bloed van Jesus het egter ‘n eenmalige en blywende versoening geskep vir almal wat dit wil aanneem. Ons het ook nie menslike middelaars soos profete nodig om namens ons tot God se troon toe te tree nie: “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid” (Heb. 10:19-22).

Tydens Christus se sterwensoomblik het daar ‘n aardbewing plaasgevind, die grafte van ontslape heiliges het oopgegaan en hulle het uit die dood opgestaan. Die Here Jesus het die mag van die dood verbreek sodat dit die regverdiges nie kan insluit en behou nie, daarom sal daar vir elkeen wat glo ‘n opstanding tot die lewe wees. Jesus het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh. 11:25).

Ná die drie uur lange duisternis nét voor die dood van Jesus, het die lig skielik weer helder deurgebreek. Gólgota was in ‘n nuwe ligglans gehul, en die getuienis van hierdie gebeure sou deur die eeue heen vir miljoene mense die duisternis van sonde en verlorenheid verdryf en laat opklaar. Elkeen van ons wat sy reddende genade deelagtig geword het, is ‘n gesant om te verkondig die deugde van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet. 2:9).

Toe die Romeinse soldate “die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God” (Matt. 27:54). Selfs heidene wat geen kennis van die Messiaanse profesieë van die Ou Testament gehad het nie, het bewende tot die gevolgtrekking gekom dat Jesus die Seun van God is. Die Here bied versoening deur die bloed van Christus aan elke volk en taal en stam en nasie tot aan die eindes van die aarde aan.

Omdat Jesus gehoorsaam was om Homself tot in die donker dieptes van die kruisdood te verneder, het God Hom opgewek uit die dode, Hom “uitermate verhoog en Hom ‘n Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van die Vader” (Fil. 2:6-11).

Elke persoon op aarde sal die knie voor Jesus Christus moet buig en erken dat Hy Here en God is. Dit is ons taak as Christene om die mensdom op ‘n ontmoeting met Christus voor te berei. Óf hulle buig nou by sy genadetroon voor Hom en aanvaar Hom as hulle Verlosser, óf hulle sal eendag by die groot wit troon voor Hom verskyn om deur Hom tot die poel van vuur verdoem te word. Hy is óf jou Verlosser, óf Hy sal jou Regter wees.

Die skadu’s van die kerkbedeling is besig om lank te rek en die tyd loop vinnig uit. Laat ons die meeste van die oorblywende tyd maak en dit uitkoop om die Here te dien en sy koninkryk op aarde uit te brei. Soos Jesus, moet ons ook ‘n dringendheid omtrent ons opdrag hê: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Die nag van God se oordele in die groot verdrukking kom vinnig nader, en daar is nog baie onafgehandelde werk in sy koninkryk voordat die basuin sal blaas. Verlorenes moet gered word en Christene voorberei word vir die ontmoeting met die hemelse Bruidegom.

Gebed: Dankie, o Here, dat U ons besoek en ryklik geseën het. Gee dat elkeen van ons saam met Paulus sal kan sê: “Ek roem in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” Gee dat ons só sal sterf vir die wêreld en die sonde dat ons rein kanale sal wees waardeur u Heilige Gees kan werk om die boodskap van verlossing in ‘n sondige wêreld te laat weerklink. Beklee ons met die gekruisigde Here Jesus en help ons deur u Gees om die reuk van sy kennis oral te versprei. Maak ons toonbeelde van sy selfopofferende liefde en gee dat ons nie in ‘n lewe van eiebelang en selfsugtigheid sal verval nie. Ons kom kniel voor die kruis om opnuut elke las af te lê, en ook die sonde wat ons so maklik omring. Gee dat ons as begenadigdes van die Here vas sal staan in die vryheid waarmee Christus ons vrygekoop het en selfs ten bloede toe weerstand sal bied teen die sonde. Gee dat ons nie as gevolg van nalatigheid, hoogmoed of ander sondes onbevoeg sal raak om getuies vir Christus te wees nie. Hou ons trou, Here Jesus, en word verheerlik in ons lewens. Ons vra dit uit diepe afhanklikheid van U, amen.

 

10. Bruilof van die Lam

Gebed: Ons dank U, o Here, vir die ewige heerlikheid wat U berei het vir dié wat U liefhet – daardie wonderstad met sy pêrelpoorte en goue strate, en ook die ivoorpaleis waarin die bruilof van die Lam gevier sal word. Onuitspreeklike heerlikheid wat die oog nie gesien, die oor nie gehoor en in die hart van die mens nog nie opgekom het nie, wat U vir ons gaan berei het. Die poort na hierdie heerlikheid is Golgota, waar verlore mense met God versoen kan word. Dankie, Here Jesus, dat U bereid was om Uself tot die wrede kruisdood te verneder om sondaars te red. Omdat U dit gedoen het, het die Vader U uitermate verhoog en ‘n Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Hy Here is. U is ook ons Bruidegom wat spoedig sal kom om u bruidsgemeente te kom haal. Berei ons vir hierdie wonderlike geleentheid voor sodat ons onberispelik voor U kan verskyn. Ons vra dit tot die eer van u wonderlike Naam, amen.

Die ware kerk van Christus word dikwels as die bruid en die vrou van die Lam beskryf (Matt. 25:1-13; 2 Kor. 11:2; Op. 19:7-8). Wanneer ons gered word, moet ons besef dat ons nie kan terugsit omdat ons reeds ons geestelike bestemming bereik het nie. Elke Christen het ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus (Fil. 3:14), en redding is net die begin van ‘n lang pad van heiligmaking en geestelike groei. Ons moet só in heiligmaking toeneem dat ons eendag onbevlek voor Christus kan verskyn. Ons moet verstaan dat Hy Homself oorgegee het om ons te red én te heilig:

“Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).

Ná die eerste reiniging van ons sondes wil die Here Jesus ons ook volkome heilig maak sodat ons onberispelik voor Hom kan verskyn. Ons moet dus nie teen ons huidige, donker omstandighede vaskyk, en ontmoedig word deur die minagting wat in ‘n goddelose wêreld ons deel is nie. Die beloftes oor ons heerlike toekoms in die hemel moet aangegryp word terwyl ons aktief voortgaan om voorbereidings daarvoor te tref.

Tydens Jesus se eerste koms was daar groot aanvegtinge teen Hom en sy klein groepie ware dissipels. Hy het gesê dat Hy sou weggaan, en hulle was bang om alleen agter te bly. Die nag voor sy kruisiging het Hy egter die volgende gerusstellende belofte oor ‘n wonderlike herontmoeting aan hulle gemaak: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3).

Hierdie belofte is na analogie van die tradisionele Joodse huweliksgebruike in Bybelse tye gemaak. Die eerste belangrike stap in die Joodse huwelik was die verlowing, wat die sluiting van ‘n huweliksverbond behels het. In die tyd van die Here Jesus was dit gebruiklik dat só ‘n verbond gesluit is op grond van die inisiatief wat deur die voornemende bruidegom geneem is. Vir hierdie doel het hy van sy vaderhuis af na die woning van sy voornemende bruid gereis. Daar het hy met haar vader oor die bruidsprys (mohar) onderhandel wat hy moes betaal. Nadat die bruidegom die koopprys betaal het, is ‘n huweliksverbond gesluit. Van daardie oomblik af is die bruid as toegewy of geheilig verklaar, en slegs vir haar bruidegom afgesonder. As simbool van die verbond wat tussen hulle gesluit is, het die bruidegom en bruid uit ‘n beker nuwe wyn gedrink waaroor die verlowingseën uitgespreek is.

In die bestudering van die analogie is die eerste stelling wat gemaak moet word, dat die geheiligde kerk van Christus sy bruidsgemeente is (Ef. 5:22-33). Net soos die Joodse bruidegom die inisiatief in die huwelik geneem het deur sy vaderhuis te verlaat en na die woning van sy voornemende bruid te reis, het Jesus tydens sy eerste koms sy vaderhuis verlaat en na die aarde gekom wat die woonplek van sy voornemende bruid is. Hier het Hy deur sy kruisdood die volle prys betaal om sy bruid los te koop sodat sy net aan Hom kan behoort. Paulus sê vir die gemeente: “Julle is duur gekoop” (1 Kor. 6:20), en Petrus bevestig ook dat ons losgekoop is deur die kosbare bloed van die Lam (1 Pet. 1:18-19). In dieselfde nag waarin Jesus die belofte aan die vroeë dissipels gemaak het dat Hy vir ons plek gaan berei, het Hy die Nagmaal ingestel. Hy het die beker met die wyn aan sy dissipels gegee met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed” (1 Kor. 11:25). Dit is ter herinnering aan die vaste en ewige verbintenis wat ons deur sy kruisdood met Hom het.

Soos wat die Joodse bruid verklaar is om heilig en slegs aan haar bruidegom toegewy te wees, moet ons ook voorberei word om vlekkeloos voor Christus te verskyn. Paulus sê ons harte moet versterk word om onberispelik in heiligheid by die wederkoms van Jesus Christus te wees (1 Thess. 3:13). Dit sluit ons hele lewenswandel in: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Thess. 5:23-24; vgl. 1 Pet. 1:15-16).

Nadat die huweliksverbond gesluit is, het die bruidegom die woning van die bruid verlaat en na sy vaderhuis teruggekeer. Daar het hy, afgesonderd van sy bruid, vir ‘n jaar lank gebly. Hierdie tydperk het aan die bruid ruim geleentheid gegee om haar bruidsuitrusting gereed te kry en haar op die getroude lewe voor te berei. Die bruidegom het homself besig gehou met die inrig van woonkwartiere in sy vader se huis, waarheen hy sy bruid kon bring.

Christus het ook ná sy eerste koms en die betaal van die koopprys vir sy bruid, na sy vaderhuis in die hemel teruggekeer om vir ons plek te gaan berei. In die huidige tyd van afsondering moet ons op die lewe in die hemel voorberei word, getrou aan die Here Jesus bly en die werk doen wat Hy aan ons gegee het. Die uitnodiging tot lidmaatskap van sy bruidsgemeente moet aan soveel as moontlik mense gerig word. Die gevaar bestaan dat ons in hierdie tyd deur Satan en die wêreld verlei kan word om ontrou aan Christus te raak en sodoende uit ons heilige verhouding met Hom te verval.

Paulus sê aan die vleeslike Korinthiërs, wat absoluut traag was om die opdrag tot heiligmaking na te streef en uit te leef (1 Kor. 3:1-3), dat hulle as gevolg van daardie houding ontrou sou raak en die wêreldse gees ten prooi sou val: “Ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Kor. 11:2-3). Uit die gelykenis in Mattheus 25 is dit ook duidelik dat vyf van die maagde té min olie in hulle lampe het, wat ‘n aanduiding daarvan is dat hulle nie in die volheid van die Gees gewandel het nie en dus nie waardig is om voor die Bruidegom te verskyn en Hom na sy vaderhuis te vergesel nie. Daar is ‘n ernstige gebrek in hulle lewe.

Aan die einde van die jaar van afsondering het die Joodse bruidegom sy bruid gaan haal om by hom te kom woon. Dit het gewoonlik in die nag gebeur omdat dit ‘n geheime ontmoeting met haar was. Hy het haar buitekant op die pad ontmoet waar sy hom ingewag het, en by hierdie geleentheid het hy homself nie aan die res van haar gesinslede in die huis vertoon nie. Hy, sy strooijonker en ander manlike reisgenote het ‘n fakkeloptog na die omgewing van die bruid se huis onderneem. Hoewel die bruid hom aan die einde van die tyd van afsondering verwag het, het sy nie die presiese nag van sy aankoms geken nie. As gevolg hiervan is die bruidegom se aankoms deur ‘n geroep voorafgegaan. Hierdie geroep was ‘n blye boodskap aan die bruid dat die bruidegom gekom het om haar te kom haal (Matt. 25:6). Dan was dit té laat om eers gou voorbereidings vir die ontmoeting met die bruidegom te gaan tref.

Op ‘n soortgelyke wyse sal die hemelse Bruidegom aan die einde van die kerkdispensasie sy bruid in die geheim kom haal. Hy sal haar buitekant die aarde in die lug ontmoet, en Homself nie by hierdie geleentheid aan die res van die wêreld openbaar nie. Sy koms sal ook met ‘n geroep aangekondig word: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18).

Ná hierdie ontmoeting sal die bruid eers voor die regterstoel van Christus verskyn sodat elke lid loon volgens sy eie arbeid kan ontvang. Daarna word die huwelik in die hemel voltrek en word die bruid, geestelike gesproke, die vrou van die Lam. Die eerste taak wat die verheerlikte kerk dan sal hê, is om saam met Christus die wêreld in geregtigheid te oordeel. Paulus sê: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie?” (1 Kor. 6:2).

In ‘n regerende hoedanigheid word die kerk as 24 ouderlinge voorgestel wat rondom die troon van Christus in die hemel sal versamel. Wanneer Christus die boek van God se oordele oor ‘n bose en sondige wêreld aan die begin van die sewe jaar van verdrukking oopmaak, sal hulle Hom toesing: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10). Hulle sien daarna uit om ná die tyd van verdrukking saam met Christus na die aarde terug te keer en hier in sy koninkryk saam met Hom as konings te regeer.

Aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking sal Christus met sy heiliges na die aarde terugkeer om sy koninkryk te openbaar: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant… Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:4-5). Dit sal die openbare verskyning van Jesus Christus wees, en dit word in die Bybel duidelik van die geheime ontmoeting onderskei wat Hy sewe jaar vroeër met sy bruidsgemeente gehad het. By hierdie geleentheid sal Christus in sy volle heerlikheid saam met sy liggaam, of gemeente, geopenbaar word. Paulus het aan die gemeente gesê: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4). Die Here Jesus kom terug om sy vyande by die slag van Armageddon te oordeel (Sag. 14:2-3; Op. 19:19-21), die oorblyfsel van Israel te red en ‘n regering van geregtigheid en vrede vir die hele wêreld in te stel.

Wanneer die Here Jesus in mag en majesteit na die aarde terugkeer, sal almal wat die groot verdrukking en die slag van Armageddon oorleef het, Hom erken en met Hom versoen word (Sag. 12:10; Matt. 24:29-30). Die bruilofsmaal van die Lam – dit is die onthaal ná die troue – sal deel van sy openbaringsgebeure op aarde wees, en die pas gereddes uit Israel en die nasies sal die gaste by hierdie geleentheid wees:

“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8).

Die verheerlikte kerk word hier die vrou van die Lam genoem, omdat die huwelik reeds in die hemel voltrek is. Haar bruilofskleed weerspieël die mate van heiligheid wat individuele gelowiges op aarde bereik het. Hierby is werke duidelik ter sprake, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Die heiliges is dié Christene wat onder die krag en leiding van die Heilige Gees werke doen wat by die bekering pas. Dit is die goud, silwer en kosbare stene waarmee gelowiges volgens 1 Korinthiërs 3:10-12 op die fondament Jesus Christus moet bou.

Die bruilofskleed is dus soos ‘n huweliksverhouding – ons moet daaraan werk. Hierdie kleed moet nie met sonde bevlek word nie, en dit moet ook nie rimpels of kreukels hê omdat dit opgevou en iewers weggebêre is nie. Onthou net dat die werk wat jy daaraan doen, slegs deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees kan geskied. Dit is nie dit wat jy deur die krag van die vlees vír die Here doen wat tel nie, maar dit wat Hy déúr jou doen. Dit is waarom dit aan die vrou van die Lam “gegee” is om bekleed te wees met rein en blink fyn linne. Soos die diensknegte wat die ponde ontvang het, is die bruid nie ‘n passiewe ontvanger van die krag en genade wat sy gekry het nie. Sy moet dit gebruik deur haarself aktief aan die Here diensbaar te stel.

‘n Mens kan meer of minder heilig wees, net soos wat jy ook meer of minder vrug in die koninkryk kan dra. Sommiges dra dertigvoudig vrug, ander sestigvoudig en ander honderdvouding. Die een verdien tien ponde wins met sy pond, die ander een vyf en ‘n derde een niks nie. Die vraag is: waar staan jy met betrekking tot heiligmaking? Is die eie-ek gekruisig en het die Heilige Gees volle beheer oor jou lewe? Indien wel, dan sal jy veel vrug dra en sal jou bruilofskleed ook tot eer van die Here ryklik met gouddraad geborduur wees. Maak baie seker dat jy ‘n lid van die verheerlikte bruidsgemeente is wat spoedig aan die Here Jesus se sy sal staan:

“Die koningin staan aan U regterhand in goud van Ofir… Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei… Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in” (Ps. 45:10,14-16). Met die oog op die heerlike toekoms wat op ons wag, moet ons alles in die stryd werp om die Here te behaag en heilig te lewe. Moet dit nie as ‘n onbereikbare ideaal beskou nie, want Hy help jou om dit te kan verkry. Jy sal nie nou ‘n standaard van volmaaktheid kan bereik nie, maar jy moet jouself nogtans daarvoor beywer. Paulus sê: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is” (Fil. 3:12).

Daar moet merkbare vooruitgang in jou geestelike lewe wees. Om dit deelagtig te kan word, moet ons die pinksterbelofte van krag uit die hoogte ernstig opneem. Hierdie krag stel ons in staat om geestelik te kan groei, vir die Here te kan werk, die duiwel teë te staan en oor versoekings te oorwin, en ook om op die dag van Christus se koms met ‘n waardige bruilofskleed beklee te kan wees – daardie fyn weefstof wat die regverdige dade van die heiliges is. Die laaste opdrag van die Here Jesus in die Bybel handel oor voortgesette geestelike groei en heiligmaking. Hy koppel dit aan ‘n belofte van genadeloon tydens sy wederkoms: “…laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12).

Moenie by die standaard van jou geestelike lewe berus soos dit tans daar uitsien nie. Vormgodsdienstiges en ander ongereddes moet na die Here Jesus kom om weergebore te word, vleeslike Christene moet ‘n volle oorgawe maak om met die Heilige Gees vervul te word, terwyl geestelike Christene na hoër vlakke van heiligheid en diensbaarheid moet streef. Kom drink uit die fontein van die lewe en put uit die rykdomme van die Here se genade. Hy het nie net genade vir redding nie, maar ook vir godsvrug en oorwinning in jou geestelike lewe. Dit is in elk geval die groot doel waarheen sy genade jou wil lei:

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:11-13).

Spoedig sal ons in heerlikheid voor Hom verskyn!

Gebed: Ons dank U, Here, vir tye van verkwikking voor u aangesig. Dankie dat U ons in hierdie tyd ontmoet en opnuut gereinig het van alle besoedeling van die gees en die vlees. Dankie ook vir ‘n nuwe toerusting met krag uit die hoogte. Wat ‘n voorreg om U op hierdie nuwe en lewende weg te volg en te ervaar hoedat U elke behoefte van ons vervul na die rykdom van u genade. Elkeen van ons het U baie nodig, Here, omdat daar ook baie aanvegtinge vanuit die koninkryk van die duisternis op ons is. Dankie vir u Heilige Gees wat ons in die hele waarheid lei en aan ons die krag gee om teen die kwaad weerstand te bied. Bewaar ons in die weke en maande wat kom, dat ons nie moedswillige sondes sal doen waardeur ons u Gees sal bedroef nie. Bewaar ons ook van die sonde van versuim, dat ons nie sal nalaat om U te dien soos wat ons moet nie. Ons wil graag met die werk van u koninkryk besig gevind word wanneer U ons kom haal. Hiervoor is ‘n daaglikse wandel met U nodig, sodat ons onafgebroke van U teenwoordigheid in ons lewens bewus sal wees. Ontvang al die dank en lof van ons harte vir dit wat U vir ons gedoen het, en vir dit wat U ook nog deur ons gaan doen. Ons bid dit in die Naam van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, amen.