Print

Studies in Christelike Heiligheid

Written by Prof Johan Malan.

Deur Terry W. Pollard (red.), Bybel Metodiste Kerk, VSA (Vertaal deur Johan Malan)

Opsomming: Hierdie 13 Wesleyaanse lesings oor heiligmaking is opgestel om weekliks oor ‘n tydperk van drie maande aangebied te word.

Inhoud

LES 1. Die grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe

LES 2. Die Behoefte aan ‘n Heilige Lewe

LES 3. Die Betekenis van Heiligmaking

LES 4. Die Eienskappe van ‘n Heilige Lewe

LES 5. Die Heilige Gees en ‘n Heilige Lewe

LES 6. Hoe om Geheilig te Word

LES 7. Die Uitleef van ‘n Heilige Lewe

LES 8. Heiligheid – God se Plan vir die Kerk

LES 9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms

LES 10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe

LES 11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings

LES 12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid

LES 13. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid

1.     Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe

Sleutelteks

"Die God en Vader van onse Here Jesus Christus… het ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees" (Ef. 1:3-4).

Sentrale waarheid

Die Bybel leer ons duidelik dat God van sy kinders verwag om heilig te wees.

Les

1 Petrus 1:13-25

13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.

14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.

15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,

16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;

18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,

19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,

21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.

22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;

23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,

25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Heiligheid is ‘n onderwerp wat dikwels deur té veel Christene vermy word. Om een of ander rede is dit vir baie mense ongemaklik om daaroor te praat om heilig te wees. Ons het skynbaar min probleme om heiligheid aan God toe te skryf wanneer ons sing: “Heilig, heilig, heilig, Here God, Almagtig...” Wanneer ons egter die oorgang moet maak om oor die heiligheid van ons eie lewens te praat, stel ons dikwels ‘n karikatuur daarvan voor wat nie vir een van ons aanvaarbaar is nie – ‘n skynheilige persoon wat “heiliger-as-jy” is (holier-than-thou). Die Here Jesus het duidelik hierdie soort lewenstyl wat deur die skrifgeleerdes en Fariseërs beoefen is, verwerp.

In plaas hiervan roep God ons tot ‘n lewe van ware heiligheid. Charles Spurgeon het gesê dat “heiligheid die argiteksplan is wat God gebruik om sy lewende tempel te bou.” Dit is ‘n beeldende opsomming van die onderrig wat Petrus in sy brief oor die belangrike onderwerp van heiligheid gee. Daar is ‘n groot behoefte aan mans en vroue, jongmense en kinders in ons samelewing wat heilige lewens lei.

1. Ondersteun deur die natuur van God (1 Petrus 1:13-16)

Daarom, omgord die lendene van julle verstand (v. 13). Ware heiligheid begin by die behoorlike voorbereiding van ons verstand. Ons moet die inisiatief neem om ons verstand en gemoed voor te berei, want dit moet heilig wees as ons begeer dat ons gedrag heilig moet wees. “Want soos [‘n mens] in sy siel bereken, so is hy” (Spr. 23:7). Paulus se onderrig is ook dat ons die dinge moet bedink wat waar, eerbaar, regverdig, rein, lieflik en loflik is (Fil. 4:8). Die woord wat as nugter vertaal is, het die betekenis van om “bestendig” of “besadig” te wees. Dit is belangrik dat ons verstand en gemoed onder die bestendige beheer van die Heilige Gees sal wees. Hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. ‘n Deel van die voorbereidings vir heiligheid is om die lewe van hoop te leef. Baie Christene faal hierin deurdat hulle neig om negatief, pessimisties, veroordelend en selfs fatalisties te wees. Dit behoort nie so te wees nie! Deur ons geloof in Christus het ons ‘n lewende hoop. Die oorwinning is verseker! Die lewe met Jesus Christus is ‘n eindelose hoop, terwyl dit sonder Hom ‘n hopelose einde het.

Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie (v. 14). Gehoorsaamheid is ‘n grondbeginsel van die Christelike lewe. As ons dissipels van Jesus wil wees, moet ons onsself verloën, ons kruis opneem en Hom volg (Mark. 8:34). Jesus sê dat die persoon wat Hom waarlik liefhet, dié een is wat sy gebooie bewaar (Joh. 14:21). As ons aan Hom gehoorsaam is, sal ons nie ons lewens volgens ons vorige begeerlikhede inrig nie. Hierdie “natuurlike begeertes” bied wel vervulling, maar uiteindelik bring dit ontnugtering en die dood voort. Omdat die hartstogte en begeerlikhede van die vlees in stryd met die lewe van die Gees is, is hulle deel van die gevalle wêreld wat lynreg in stryd met God se doel vir ons én vir die hele skepping is.

Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook heilig word (v. 15). Daar is slegs een wat volkome heilig is. Volgens Petrus is dit Hy wat ons geroep het. Hy is die ware bron van heiligheid. As ons heilig wil wees, moet ons Hom ken, liefhê en gehoorsaam. Ons moet met Hom wandel. Die essensie van ware heiligheid bestaan uit gelykvormigheid aan die natuur en wil van God.

Omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig (v. 16). Dit is ‘n direkte aanhaling uit Levitikus 11:44. Die Ou Testamentiese begrip van heiligheid is om rein en afgeskeie van die sonde te wees. Die Griekse woord wat Petrus hier gebruik, beteken ook om sonder sonde te wees, en onberispelik of vry van onreinheid. Die oproep hier is duidelik. Ons moet heilig wees in alles wat ons doen. Ons moet meer en meer soos die Here Jesus word en leef soos wat Hy leef. God verlang daarna om aan ons ‘n rein hart te skenk, net so seker as wat ‘n fisiese hart vir ‘n oorplanting aan iemand geskenk kan word. D.L. Moody het gesê: ”Dit is baie beter om ‘n heilige lewe te leef as om net daaroor te praat. Ligtorings lui nie klokke en skiet ook nie kanonskote af om die aandag daarop te vestig dat hulle skyn nie – hulle skyn net.” Die stil skoonheid van ‘n heilige lewe is, naas die krag van die Heilige Gees, die sterkste invloed in die wêreld.

2. Geborge in die verlossingsprogram (1 Petrus 1:17-21)

Wandel in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap (v. 17). Petrus herinner ons daaraan dat ons soos vreemdelinge en bywoners moet leef. Ons hoogste roeping is om ons primêre lojaliteit aan die Koning van die konings te betoon. Hierdie aarde is slegs ‘n tydelike woonplek vir ons, omdat ons burgerskap in die ewige koninkryk van God is. Drie keer in sy brief herinner Petrus ons aan God se rol as regter. Ons word ingelig dat die Here sonder aanneming van die persoon oordeel. Met dit in gedagte, moet ons in eerbied en vrees leef. Dit is die soort vrees wat in Handelinge 2:43 beskryf word. Ons moet in die voortdurende erkenning leef van wie God is en wie ons is.

Omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge… losgekoop is nie (v. 18). Ons is nie vrygekoop deur die futiele gedrag en tradisies wat van ons vaders geërf is nie. Een geslag kan slegs tydelike dinge aan die volgende geslag nalaat. Ons kom sonder iets in die wêreld in en sal ook sonder iets weer die wêreld verlaat. Petrus sê dat selfs goud en silwer uiteindelik sal vergaan. Ten beste is hierdie dinge ydel en verganklik. Dit verskaf ‘n valse sin van sekuriteit. Ons is van ‘n ydele lewenswandel verlos wat net op die dinge van hierdie lewe ingestel is. Ons verlossing is nie deur tydelike dinge gekoop nie.

Maar deur die kosbare bloed van Christus (v. 19). Ons is vrygekoop deur die kosbare bloed van Christus, die vlekkelose Lam van God. Hy is die vervulling van die paaslam wat sonder gebrek en vlekkeloos moes wees – die heel beste uit die kudde. Johannes die Doper het Jesus só voorgestel: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Ons redding en heiligheid is inderdaad met die ewige gekoop, met dit wat so kosbaar is dat al die verganklike goud en silwer van die wêreld dit nie kan koop nie – die dood en opstanding van Jesus Christus.

Wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld (v. 20). Jesus het nie sy bloed per ongeluk aan die kruis gestort nie, ook nie as gevolg van ‘n gruwelike fout wat deur haatdraende en sondige mense begaan is nie. Sy dood en die stort van sy bloed was van die begin van die wêreld af deel van God se plan. Paulus bevestig hierdie wonderlike waarheid oor ons verlossing wanneer hy sê dat God die Vader ons in Christus “uitverkies [het] voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees” (Ef. 1:4). Hoewel Jesus voor die grondlegging van die wêreld verkies is om ons redder te wees, is Hy slegs in hierdie laaste tye as die Verlosser geopenbaar. Die profete het na die Verlosser gesoek, maar in God se volmaakte plan is Hy eers eeue later in Jesus Christus geopenbaar. Petrus sê Hy het verskyn vir diegene wat deur Hom in God sou glo. Hierdie Verlosser is die bron van ons redding en heiligmaking.

Julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het (v. 21). Deur Jesus Christus glo ons in God. Die evangelieboodskap van Johannes 3:16 is deur geloof in Jesus in ons lewens vervul. Dit is die God wat Jesus Christus uit die dode opgewek het. Die lering oor die opstanding van Christus beklee ‘n sentrale plek in die boodskap van Petrus. Dit was prominent in sy preek op Pinksterdag nadat hy met die Heilige Gees vervul is (Hand. 2:31), en is ook die fokus van sy onderrig in hierdie brief: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (1 Pet. 1:3). Die diepste begrip vir die opstanding van Jesus Christus het plaasgevind op Pinksterdag toe Petrus met die Heilige Gees vervul is, soos wat Jesus ook beloof het. Hy was toe in staat om in die krag van die verrese Christus te preek. Die God wat Jesus uit die dood opgewek het, is dieselfde God waarin ons glo. Sy krag is elke dag tot ons beskikking terwyl ons ons vertroue in Jesus stel en die Heilige Gees toelaat om in en deur ons te leef. God het ook heerlikheid aan Christus gegee. Die begrip “heerlikheid” kan ook as “aanbidding” vertaal word. Dit is presies hoe ons teenoor die Here Jesus behoort te leef – ons moet eer, lof, aanbidding en heerlikheid aan Hom bring.

3. Ontdek in die Verlossingsplan (1 Petrus 1:22-25)

As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het (v. 22). Liefde is sentraal in ‘n Christelike lewenstyl, want dit is die essensie en karakter van God self (1 Joh. 4:8). Ons liefde moet ongeveinsd wees, en dus suiwer en sonder enige huigelary. Ons moet opreg liefhê – soos God self. Ek kan net vurig liefhê uit ‘n rein hart. Petrus verwys hier na die hartsreiniging wat ons deur die kosbare bloed van die Lam kan verkry – Hy wat sonder gebrek en vlekkeloos is. As ons opreg wil liefhê, moet ons van ons sondes gereinig word deur Jesus Christus. Ons moet dood wees vir onsself en lewend vir God. Ons moet hierdie onvoorwaardelike liefde van God af ontvang sodat ons dit teenoor ander kan uitleef.

Julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike (v. 23). Petrus sê dat die vermoë om God opreg, vurig en uit ‘n rein hart lief te hê, uit die noodsaaklike en wonderlike ervaring van wedergeboorte voortspruit. Vroeër in hoofstuk 1 het Petrus oor ons erfenis geskryf wat onbesmet en onverwelklik is (v. 3, 4). Dit alles is deur die opstanding van Jesus Christus moontlik gemaak.

Alle vlees is soos gras (v, 24, 25). Om hierdie punt te illustreer, haal Petrus Jesaja 40:6-8 aan en sê dat alle vlees soos gras is… die gras verdor en sy blom val af. In teenstelling hiermee bly die woord van die Here tot in ewigheid. Vroeër is dit ook reeds gestel dat “die lewende woord van God tot in ewigheid bly” (v. 23). Die Woord van God sal tot in ewigheid stand hou, so ook liefde en heiligheid. Ons moet nie hieroor verbaas wees nie want God is liefde, God is ewig en God is heilig. Liefde en heiligheid bestaan dus ook vir ewig. Die liefde vergaan nooit nie (1 Kor. 13:8). Die liefde bly vir altyd (1 Kor. 13:13). Dit is liefde uit ‘n rein hart wat in heiligheid bevestig is, wat vir altyd sal bestaan.

Kommentaar oor die Sleutelteks

Die God en Vader van onse Here Jesus Christus… het ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees (Ef. 1:3-4).

Ons alwetende God kan nie verras word nie. Voordat die mens in sonde geval het, het God reeds ‘n volledige plan vir sy verlossing uitgewerk. Dit moes slegs in werking gestel word toe die tyd ryp was. Dit is soos wat ‘n argitek die konsep van ‘n gebou op papier vaslê in die vorm van ‘n bloudruk waarin al die besonderhede aangedui word, nog voordat die struktuur self bestaan. Net so het God ook elke detail van die mens wat Hy sou skape, insluitende sy volmaakte verlossingsplan, ten volle beplan. Nog voor die grondlegging van die wêreld het Hy gereël dat sy eniggebore Seun ‘n offer sou word – die volmaakte versoening vir die sonde van die mens. Die verlossingsplan is nie ‘n vinnige idee wat later eers deur God bedink is om ‘n skielike negatiewe ontwikkeling waarmee Hy onkant gevang is, te hanteer nie. Dit is ‘n volmaakte meesterplan deur ‘n alwyse en almagtige God.

Hy het ons uitverkies. “Die verkiesing en die keuse van God is nie willekeurig sodat sommige vir saligheid en andere vir die verderf bestem is sonder inagneming van die ingesteldheid van die individu nie. Die aanbod van redding word aan alle mense gemaak, soos wat die Bybel dit duidelik stel (Joh. 3:16; Rom. 10:13). Die uitverkorenes word dus nie deur ‘n absolute raadsbesluit bepaal nie, maar deur die aanvaarding van die voorwaardes van God se roeping” (Beacon Bible Comm.). Net soos wat Noag gevra het om genade [guns] in die oë van die Here te vind, en dit ook verkry het, kan jy en ek dit ook doen. Jesus het gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). Petrus het die volgende kosbare woorde neergeskryf: “Die Here… wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9).

Heilig en sonder gebrek. “Heiligheid en vervolmaking is die einddoel met God se uitverkiesende liefde… God kan geen siel vir verlossing verkies sonder heiligheid nie… Die verkiesing is vir heiligheid. So lank as wat ‘n persoon die sonde liefhet en heiligheid haat, het hy geen bevestiging vir enige verkiesing nie… God red niemand sonder dat Hy hom ook heilig maak nie” (Pulpit Comm.).

Heilig. In Efésiërs 1:1 word na die gemeentelede as “heiliges” verwys. Hierdie woord kom dikwels in die Bybel voor. In Efésiërs 1:4 is God se oproep tot heiligheid ook baie duidelik.

Sonder gebrek. Die begrip “sonder gebrek” (Ef. 1:4; 1 Pet. 1:19; Kol. 1:22; Judas 1:24; Op. 14: 5) word ook vertaal as “sonder vlek” (Ef. 5:27) en “sonder smet” (Heb. 9:14). Die volmaaktheid wat hier vereis word, sou sekerlik die sterflike mens oorweldig het as dit nie was vir die verdienste van Christus se gestorte bloed nie. Deur daardie offer is ons bevoorreg om deelgenote van God se wonderlike genade te wees. Christus het die keuse van heiligheid in die hemel vír ons gemaak. Stem jy in met hierdie keuse wat vir jou gemaak is?

Leerstellige Bespreking

Net soos wat die fondament die belangrikste deel van ‘n fisiese gebou is, is dit ook die geval met ‘n geestelike gebou. Eersgenoemde kan nie op sand gebou word nie, want dan sal dit val. Net so ook kan die geestelike gebou nie op enige ander fondament as God gebou word nie, deur die voorsiening van die God-mens, ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Die bloudruk vir ons heiligheid is aan die natuur van God self ontleen. Die Here Jesus is die verbindingskakel wat die gevalle mens in staat stel om herstel te word tot “heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14). Die Heilige Gees is die doeltreffende bouer en veilige interpreteerder van die bloudruk [die Bybel] omdat Hy ook God is!

Net soos wat die Nuwe Testament dit stel dat “God is liefde” (1 Joh. 4:8), so konstateer die Ou Testament dat God heilig is (Lev. 11:45).

Wat is heiligheid in die Ou Testament? Dit is die onveranderlike natuur van God wat die volle voorstelling van die somtotaal van sy volmaakte karaktertrekke is. Heiligheid in die Here is die toestand waarin ons geen morele onvolmaaktheid in die hele natuur van God vind nie. Liefde is heiligheid in aksie. Uit hierdie handelinge blyk die totale morele volmaaktheid en objektiwiteit in dié groot liefde. Dit is vanselfsprekend dat só ‘n goddelike wese die mensdom kan skape én herstel na die toestand van afgeleide heiligheid wat ons op grond van ons verhouding tot God het.

“Die geskiedenis van die woord heiligheid in die Ou Testament vertoon die geleidelike oorgang van die idee van afsondering af na dié van heiligheid. Dit volg ‘n koers waarin die kwantitatiewe idee van onthouding verander na die kwalitatiewe idee van aktiewe en absolute reinheid. Godsdienstigheid word eties sodat dit nie alleen meer godsdienstig kan word nie, maar die één godsdiens vir die gewete én vir die wêreld. Die een God kan slegs die heilige God wees” (Exploring Christian Holiness, Vol. 1).

Aangesien die Ou Testament die Nuwe Testament in verborge vorm is, en die Nuwe Testament die Ou Testament in sy geopenbaarde vorm, kan ons verwag om ‘n duideliker prentjie van die grondslag van heiligheid in die Nuwe Testament te kry. Dit is presies wat ons kry!

Ons hoef nie verder as Mattheus 3:11 te gaan om ‘n ondervinding te kry wat verder as die doop van Johannes die Doper gaan nie. Sy doop was dieselfde as wat die dissipels voor Pinksterdag gehad het. Jesus het self gesê dat hulle name in die hemel opgeskryf is (Luk. 10:20). Daardie ondervinding van bekering vorm die grondslag vir inisiële heiligheid, wat verder opgehelder word deur die stelling oor die toekomstige doop met die Heilige Gees en met vuur. Geen persoon moet die eerste werk van genade geringskat om die ander een hoër aan te slaan nie. Die tweede werk van genade is gebaseer op die feit dat die eerste een werk!

In die belangrike bergpredikasie is ‘n verdere grondslag vir heiligheid gelê toe Jesus gesê het: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matt. 5:8). Daar is geen manier waarop ons die eenvoudige teenwoordige tyd kan vermy, waardeur aangedui word dat daardie mense dié reinheid nóú moet besit nie! Die gevolg daarvan kan ook nie betwyfel word nie! Ons glo die impak van: “…hulle sal God sien” het nie slegs ‘n toekomstige verwysing nie, maar is ook die versekering dat ons Hom nou sal sien en met Hom wandel. Die grondslag vir heiligheid word dwarsdeur die Nuwe Testament aangetref.

In Handelinge 2 word die historiese oorsprong van die vervulling met die Heilige Gees bespreek. Dwarsdeur hierdie boek is die ondervindings van mense opgeteken wat die vervulling van hierdie belofte in hulle lewens ervaar het.

Romeine 6 toon duidelik aan dat heiligheid deel van God se plan vir ons lewens is. Romeine 12:1-2 dui ook aan dat daar ‘n duidelike basis is vir ‘n huidige ondervinding van heiligmaking vir mense wat reeds “broeders” is.

Die “meer uitnemende weg” van 1 Korinthiërs 13 is ‘n lewe van suiwer liefde wat die Korinthiërs vroeër nog nie geken het nie. Enigeen wat daardie karaktertrekke het, ondervind beslis ‘n lewe wat met die Heilige Gees vervul is.

Dit is ‘n moeilike taak om met die grondslae van ‘n tweede werk van genade, of heiligmaking, weg te doen wanneer al die woorde in ag geneem word waardeur aangedui word wat met mense gebeur wat heiligmaking ervaar. Die volgende is ‘n paar van hierdie woorde, asook hulle betekenisse: Romeine 6:6 gebruik ‘n Griekse woord wat aandui dat die liggaam van sonde tot niet gemaak moet word. In 2 Korinthiërs 7:1 tref ons mense aan wat vermaan word om hulleself van alle besoedeling van die vlees en die gees te reinig. Ook in Handelinge 15:9 word aangedui dat die dissipels se harte op Pinksterdag gereinig is. In Hebreërs 12:14 word ‘n lewe van heiligmaking beskryf. Dit is vanselfsprekend dat ‘n mens eers die ondervinding van heiligmaking moet hê voordat jy ‘n lewe van heiligmaking kan lei. Paulus bid dat die Efésiërs vervul sal word tot al die volheid van God (Ef. 3:19). Die Thessalonicense word tot volkome heiligmaking opgeroep: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Thess. 5:23). Here

Vrae en Antwoorde

Hierdie les behandel die grondbeginsels van ‘n heilige lewe, met besondere verwysing na 1 Petrus 1:13-25. Om die Bybelse basis vir heiligmaking verder na te speur, kan die volgende vrae oorweeg word, saam met die voorgestelde antwoorde:

1. Wat sê die Bybel In Génesis 1:26-27 oor die skepping van die mens?

God het die mens na sy eie beeld geskape en die lewe in hom geblaas.

2. Hoe is die vrou volgens Génesis 2:21-22 geskape?

God het Adam aan die slaap gemaak, ‘n rib uit sy sy geneem en die eerste vrou gemaak.

3. As die man en die vrou na die beeld van God geskape is, hoe is God dan?

a.   Ewig (Ps. 90:2; Jes. 40:28; Deut. 33:27).

b.   Goed, goedertieren en ontfermend (Ex. 33:19; Ps. 100:5; 145:7; Rom. 11:22).

c.   Barmhartig en genadig (Ex. 34:6, 2 Kron. 30:9; Ps. 86:15; 103:8).

d.   Heilig (Lev. 11:44; 19:2; Jes. 6:3; 1 Pet. 1:16).

e.   Regverdig (Jes. 45:21; Ps. 89:15; 1 Pet. 3:18; Op. 15:3).

f.     Lankmoedig (Ex. 34:6; 2 Pet. 3:9).

g.   Liefde (1 Joh. 4:7-10).

h.   Almagtig (Matt. 28:18; Rom. 13:1; Ef. 1:19).

i.     Alomteenwoordig (Ps. 139:7-12).

j.     Alwetend (Ps. 1:6; 44:22; 94:11; 1 Joh. 3:20).

k.   Waar (Joh. 7:28; 14:6; 17:17).

4. Die mens het ná die skepping ‘n harmonieuse, volmaakte, geestelike verhouding met God gehad. Hoe het sonde in die wêreld ingekom?

God het Adam en Eva verbied om van die boom in die middel van die Tuin van Eden te eet. Indien hulle dit wél sou doen, sou hulle fisies én geestelik sterf (kyk Gen. 3:3). Hulle is deur die slang [Satan] verlei om God se gebod te verbreek en van die vrugte te eet (Gen. 3:6). Sonde het as gevolg hiervan in die menslike geslag ingekom (kyk Rom. 5:12).

5. Wat is sommige van die name vir die natuurlike geneigdheid tot sonde waarmee alle mense gebore word?

Ingebore sonde, ‘n wortel van bitterheid (Heb. 12:15), die vlees (Rom. 8:7; Gal 5:17), vyandskap teen God (Rom. 8:7), die liggaam van hierdie dood (Rom. 7:24), die oue mens (Ef. 4:22), ‘n oorvloed van boosheid (Jak. 1:21), die natuurlike mens (1 Kor. 2:14), vleeslikheid, oorgeërfde verdorwenheid, die Adamiese natuur, en ander.

6. Aangesien mense met ‘n sondige natuur gebore is, hoe kan ‘n regte verhouding met God verkry word?

a.   Deur die dood en opstanding van Jesus Christus (Rom. 5:8-11; Joh. 11:25-26).

b.   Besef dat jy ‘n sondaar is (Rom. 3:23; Jes. 53:6).

c.   Besef dat Jesus vir jou gesterf het (Joh. 3:16; Rom. 5:8; 1 Joh. 4:9).

d.   Besef dat God jou wil vergewe (1 Joh. 1:9; Joh. 6:37).

e.   Bely en laat staan jou sondes (1 Joh. 1:9; Spr. 28:13).

f.  Glo dat jy vergewe is (Joh. 3:15; Hand. 16:31).

Let daarop dat verlossing die vergifnis van dade van sonde is wat jy gedoen het. ‘n Persoon van wie die sonde vergewe is, het nog steeds ‘n natuurlike geneigdheid tot sonde. Dit is die vleeslikheid, of oue mens, waarna vroeër verwys is. Die vleeslikheid kan ontwortel word deur volkome heiligmaking waarvoor daar ook aan die kruis van die Here Jesus voorsiening gemaak is (Heb. 13:12). Volkome heiligmaking stel ons in staat om heilig voor God én die mense te leef.

7. Wat beteken dit om heilig te wees?

Dit beteken om geestelik volkome en suiwer te wees, en afgesonder vir die diens van die Here. Dit is ‘n toestand van ons morele en geestelike natuur wat ons soos Jesus maak, omdat ons aan sy morele en geestelike natuur gelykvormig word.

8. Is dit vir ons nodig om volkome geheilig te wees? Is dit noodsaaklik om heilige lewens in die teenwoordige wêreld te leef?

Die antwoord is: Ja! Neem die volgende skrifgedeeltes as basis vir hierdie antwoord: Gen. 17:1; Lev. 11:44-45; Ps. 24:3-4; Jes. 6:3-5; Matt. 5:8; Luk. 1:74-75; Joh. 17:17; 2 Kor. 7:1; 1 Thess. 4:3, 7; 5:23; Heb. 12:14; 1 Pet. 1:15-16.

Die Bybel maak dit baie duidelik dat God ‘n heilige God is. Hy woon in ‘n heilige hemel en verdra nie sonde, of enige neiging tot sonde nie. Ons moet ons sondes vergewe kry en ons harte van enige neiging tot sonde laat reinig sodat ons heilige lewens voor God én die mense kan lei ten einde in die ewigheid saam met die Here in die hemel te kan wees. Ja, die Bybel leer onteenseglik dat heilige lewens ‘n móét is om ‘n heilige God tevrede te stel!

HEILIGHEID…

·      Dit word gesien in oortuiging, begin in wedergeboorte, volmaak in volkome heiligmaking, en gekroon in die koninkryk van heerlikheid.

·      Dit is die vyand van die duiwels, die vriend van die heiliges, die metgesel van die engele en die gawe uit die hemel.

·      Dit is die bron van Christus se liefde, die saad van sy geboorte, die verhewendheid van sy lewe, die sterkte van sy gehoorsaamheid, die bevrediging van sy dood, die gees van sy opstanding, die skoonheid van sy hemelvaart en die sekerheid van sy wederkoms.

·      Dit is die fontein van geloof, die glans van hoop, die kleed van geregtigheid, die pad van reinheid en die lig van liefde.

·      Dit is opgeteken in die geskiedenis, dit sal die weerklank van die ewigheid wees, dit is gehul in goddelike misterie en gegee in ‘n oomblik van tyd.                                    – Herald of Holiness

 

2. Die Behoefte aan ‘n Heilige Lewe

Sleutelteks:

"Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie" (Heb. 12:14).

Sentrale waarheid

Heiligmaking is nie opsioneel nie – dit is ‘n noodsaaklikheid in die lewe van elke Christen.

Les

1 Thessalonicense 4:3-7

3 Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery;

4 dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer,

5 nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie;

6 dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here ‘n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons ook vantevore aan julle gesê en betuig het.

7 Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.

Hebreërs 12:9-16

9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?

10 Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word.

11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.

12 Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;

13 en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

14 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;

15 en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat daar geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.

16 Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Daar is baie mense wat dink dat my beklemtoning van heiligheid ‘n duidelike bewys daarvan is dat ek aan ‘n selfmisleide minderheidsgroep van die samelewing behoort. Omdat hulle nog nooit heiligheid van hart en lewe ervaar het nie, dink hulle dat dit onmoontlik is om heilig te wees. In hulle onredelikheid word elkeen wat hierdie [volgens hulle] onbereikbare ideaal nastreef, as ‘n eenvoudige en naïewe persoon bejammer.

Ongeag wat so baie mense oor heiligheid dink, vereis die Here dit van elke Christen. In die Bybel is die onderwerp van heiligheid ‘n tema waaroor niemand onseker hoef te wees nie. Die boodskap hieroor is duidelik en eenvoudig. Indien iemand die seën van die hemel wil geniet, moet hy heilig wees (Heb. 12:14; Matt. 5:8).

Die vereiste van heiligheid is nie ‘n reël wat die Here arbitrêr vasgestel en op mense afgedwing het nie. Dit word om die volgende redes vereis:

·      God is heilig en as gevolg van hierdie natuur van Hom kan Hy nie sonde verdra nie.

·      Deur sy soendood het Christus heiligheid van hart en lewe moontlik gemaak. Indien God heiligheid nie moontlik gemaak het nie, sou Hy onredelik gewees het om dit te vereis. Omdat Hy dit moontlik gemaak het, en verklaar het dat dit sy begeerte is om dit genadiglik aan mense te skenk, is dit uit liefde en goedgunstigheid dat Hy dit vereis.

·      Die hemel is ‘n heilige plek en sy toekomstige inwoners moet voorberei word om in só ‘n omgewing in te pas.

·      Christene kan nie wees wat die reddende genade in hulle sal werk om te begeer nie, totdat hulle van sonde vrygemaak en deur die Heilige Gees vervul is tot al die volheid van God.

1. Die wil van God (1 Thessalonicense 4:3-7)

Want dit is die wil van God: julle heiligmaking (v. 3). Paulus het hier ‘n saak gestel wat hy meer volledig in hoofstuk 5 (v. 23-24) bespreek het, naamlik dat die hele persoonlikheid van die gelowige die heiligmakende krag van God moet ervaar. Op hierdie punt, omdat die Thessalonicense in ‘n immorele samelewing gewoon het waarin seksuele losbandigheid aan die orde van die dag was, het hy dit nodig gevind om ‘n drastiese reiniging van lewe in die verhouding tussen die geslagte te beklemtoon. Dit is ongetwyfeld God se wil dat alle Christene “ingetoë, regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld lewe” (Titus 2:12). ‘n Afgesonderde en heilige lewe is God se norm vir alle gelowiges, of hulle in die eerste eeu of in die 20ste eeu leef. God is absoluut heilig, en Hy is met niks minder tevrede as ‘n morele gelykvormigheid in ons, wat met sy heilige natuur ooreenstem nie.

Dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer (v. 4). Deur die proses van heiligmaking sal gelowiges hiervan bewus word. Die wil van God is goed en volmaak (Rom. 12:2), en is op elke terrein van die Christen se lewe van toepassing. Dit moet die rigtinggewende beginsel vir elke handeling en verhouding wees. Die hele mens, gees, siel en liggaam, moet volkome heilig gemaak word (1 Thess. 5:23). In elke natuurlike en wetlike verhouding van ons lewe moet die Gees van Jesus Christus sigbaar geopenbaar word.

Nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene nie (v. 5). In die heidendom word daar groot klem op sensualiteit geplaas. Gebruike en gewoontes wat totaal vreemd aan die wil van God en afstootlik vir die Christen is, word algemeen in sulke samelewings beoefen. Immoraliteit is selfs ‘n deel van die heidense godsdienste. Dit is die uitdruklike wil van God, sê Paulus, dat mense uit die stinkende moeras van morele verdorwenheid getrek en van alle verstrikkende, sondige verhoudings en ontaarde gewoontes verlos sal word. God vereis die heiligmaking van mans én vroue, die reiniging van alle menslike begeertes, en die herstel van albei tot die heilige status wat Hy oorspronklik daarvoor bepaal het.

Niemand moet sy broeder in hierdie saak bedrieg en benadeel nie (v. 6). Ander menseverhoudings word ook aan goddelike beginsels onderwerp. Paulus sê hierdeur: “Broeders, beoefen julle sosiale en besigheidsverhoudings as heilig, soos dit manne betaam wat aan God toegewy is. Die heidene word deur begeerlikheid en inhaligheid gemotiveer. Julle moet hulle deur dade van eerlikheid en geregtigheid tot beskaming bring.” Die breë terrein van verhoudings met ons medemens is die gebied waarin die geheiligde gelowige die werklikheid van sy geloof, sy integriteit en sy karakter moet uitleef en demonstreer. Onwaardige optrede teenoor jou buurman is in God se oë net so verkeerd as oneervolle gedrag in jou gesin.

Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking (v. 7). God het ons, sy kinders, tot totale afsondering van alle vuilheid en onreinheid van enige tydperk in die geskiedenis geroep. Aan die positiewe kant het Hy ons tot heiligmaking geroep. Die kenmerkende eienskap van die Christen se lewe is heiligmaking. Die tydsvorm van die werkwoord geroep dui ‘n definitiewe en voltooide handeling aan. Daar is ‘n besliste en ‘n baie duidelike kontras tussen die vleeslike, sensuele lewenswyse van die wêreldling en die geheiligde, gereinigde lewenspatroon wat God van sy kinders verwag.

2. Die vrug van geregtigheid (Hebreërs 12:9-11)

Moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? (v. 9). Daar is ‘n analogie hier van die menslike vader-seun-verhouding. Paulus wys daarop dat die wyse en gehoorsame seun homself vir ‘n kort tyd, totdat hy volwasse is, aan die dissipline van sy vader onderwerp en ook respek en agting aan hom toon. Hoeveel groter is ons verantwoordelikheid teenoor ons hemelse Vader nie om respek en eerbied aan Hom te toon wanneer Hy ons tot ons geestelike beswil dissiplineer nie.

Sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word (v. 10). Die aardse vader dissiplineer sy seun vir ‘n kort tyd sodat hy ‘n goeie burger van hierdie wêreld kan word en ‘n sukses van sy lewe maak. Die hemelse Vader dissiplineer sy kinders sodat hulle die heiligheid van sy karakter deelagtig kan word, en die ewige lewe as goeie burgers van die hemelse koninkryk kan geniet.

Later lewer dit ‘n vredevolle vrug van geregtigheid (v. 11). Die doel en orde van dissipline in die Christelike lewe suggereer dat dit uit lyding, volharding en vrug bestaan. Lyding mag erg wees en moeilik om te aanvaar as die doel daarmee nie begryp word nie. Volharding vereis geduld te midde van lyding. Lyding wat met lankmoedigheid ter wille van Christus verduur word, lewer altyd ‘n vredevolle vrug van geregtigheid in ons lewens op. ‘n Mens word nie deur die dissipline van lyding gered nie, maar jy word daardeur geestelik gevorm. Die gevolg daarvan hang grootliks af van die houding wat ons ten opsigte van die ervaring van dissipline inneem.

3. Die absolute noodsaaklikheid (Hebreërs 12:12-16)

Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op (v. 12). In hierdie vers het die skrywer waarskynlik Jesaja 35:3 in gedagte. Die uitdrukking daarom moedig ‘n onmiddellike reaksie te midde van beproewings en konflikte aan. Slap hande en verlamde knieë is egter kenmerkend van die vleeslike natuur in ‘n ongeheiligde hart. Wanneer konflikte in die warboel van die lewe ontstaan, kan mense nooit moedig reageer solank as wat die sondige natuur  toegelaat word om in hulle harte te heers nie. Vleeslike ingesteldhede soos dié sal alle pogings om oorwinnend in Christus te leef verhinder, teëstaan en selfs heeltemal verydel.

Maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word (v. 13). In die wedergeboorte wek die almagtige Christus die sondaar uit die dood op. Hy word egter steeds deur ‘n menigte ongesteldhede geaffekteer wat van die eerste Adam af oorgedra is. Dit is in die daaropvolgende werk van volkome heiligmaking dat hierdie ongesteldhede uit die weg geruim en die volmaakte gesondheid van die siel herstel word. Omdat die hemel ‘n volmaakte plek is, kan niks daar ingaan wat in enige mate geestelik siek is nie. Die groot wondermiddel, die onfeilbare medikament, die reinigende bloed van die Lam, is nie in die hemel gestort nie, maar op aarde. Dit moet hier toegepas word of nooit nie.

Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking (v. 14). Die uitdrukking jaag na beteken nie, soos sommige mense meen, dat ‘n ontwykende ideaal voortdurend nagejaag moet word nie. Dit beteken dat ‘n nuwe lewenspatroon met toewyding nagevolg moet word. Dit is ‘n oproep om ons lewe in te stel op die heiligheid wat God deur die daad van heiligmaking in ons harte vestig. Heiligheid kan dus slegs deur 'n geheiligde hart uitgeleef word. Dit stel ons in staat om "altyd oorvloedig in die werk van die Here te wees" (1 Kor. 15:58) en alle moontlikhede te beproef om “in vrede met alle mense te leef” (Rom. 12:18). Die opdrag om die vrede met almal na te jaag en heilig te leef, is van kardinale belang, want daarsonder sal niemand die Here sien nie. Dit is ‘n ernstige waarskuwing hierdie want persone wat hierin faal, sal God nie sien nie.

Dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie (v. 15). Paulus sê dat vleeslikheid ‘n bitter, giftige wortel is wat in staat is om sy gif in die geestelike bloedstroom te spuit, waardeur die hele liggaam ernstig siek gemaak word met gevolglike geestelike verlamming en uiteindelik die dood. Indien ons nie die bitter wortels van ingebore sonde deur die reinigende bloed en die vuur van volkome heiligmaking laat uitwis nie, sal hulle vroeër of later opkom, groei en ‘n oes van werklike oortredings oplewer. Hierdeur sal die nuwe lewe wat die Heilige Gees deur die wedergeboorte in ons harte gevestig het, verstik word, en dit sal tot die persoon se verval na goddeloosheid en sy uiteindelike verdoeming in die hel lei.

Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau (v. 16). Esau se fout was ‘n gebrek aan die waardering van geestelike seëninge. ‘n Onheilige persoon is ongeestelik en sekulêr, en dus die teenoorgestelde van ‘n toegewyde, heilige persoon. Esau se geestelike aanvoeling was só dood dat hy geestelike en sekulêre dinge met mekaar gelykgestel het en nie hulle werklike geaardheid of waarde kon bepaal nie. Hy het sy geestelike onderskeidingsvermoë verloor. Totale goddeloosheid is dus nie soseer die onttrekking van God se guns en teenwoordigheid uit die siel nie, as wat dit die persoon se onvermoë is om verder enige geestelike werklikhede waar te neem. Wanneer die sondige natuur toegelaat word om voort te bestaan en homself te laat geld, sal dit die geestelike ontvanklikheid van ‘n persoon uitdoof en uiteindelik vernietig. Dan sal hy nie meer in staat wees om ‘n geestelike aanvoeling vir God te hê, Hom te ken of op sy stem kan reageer nie (Rom. 1:18-32). Hiermee saam is ook die onvermoë om berou oor sonde te hê (Heb. 12:17).

Kommentaar oor die Sleutelteks

Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie (Heb. 12:14).

Jaag die vrede na met almal. Inbegrepe by hierdie groep is die iesegrimmiges en die simpatiekes, die hoogmoediges en die nederiges, die godsdienstige en politieke andersdenkendes en dié wat met jou saamstem, jou aangetroude familie en jou minder aanvaarbare bure. Vreedsame verhoudings met ander mense is die Christen se prerogatief en sy plig. Om hierdie gebod te kan vervul, moet jy nederig genoeg wees om ongeregtigheid en swak behandeling teenoor jou te aanvaar, en moedig genoeg om vir die waarheid en vir regte beginsels op te staan. Die Here Jesus is die groot voorbeeld op hierdie terrein. Paulus het aan die Christene in Rome geskryf: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (Rom. 12:18). Indien dit onmoontlik is om in vrede met iemand te leef, moet die rede hiervoor nie aan die kant van die Christen wees nie. Ons word geroep tot vrede, en die Here Jesus het seëninge oor die vredemakers uitgespreek. ‘n Mens moet egter nie die waarheid en ‘n goeie gewete ter wille van vrede opoffer nie, maar selfs dan nog moet ‘n Christelike gesindheid gehandhaaf word.

Hierdie vermaning vir vrede is veral binne die gemeenskap van gelowiges nodig. Paulus het die gees van partyskappe in die kerk sterk veroordeel (1 Kor. 3:3-6), en daarop gewys dat hierdie toestand die gevolg van vleeslikheid en ‘n gebrek aan heiligheid is.

Heiligheid kwalifiseer ‘n persoon vir die hemel. “Sonder heiligmaking is ‘n persoon net so min geskik vir die hemel as wat ‘n blinde man is om ‘n mooi kunsgalery met skilderye, of ‘n pragtige landskap, te geniet” (Pulpit Comm.). Hoewel sommige mense heiligheid nastreef met geen hoop om dit in die huidige lewe te verkry nie, moet ernstige Christene nie só ‘n houding inneem nie. Hulle moet dit ernstig, doelgerig en met verwagting in die geloof soek. Hierdie ondervinding word nie net vereis nie, maar is ook hier en nou beskikbaar. Vir hierdie spesifieke doel het Jesus na Gólgota gegaan (Heb. 13:12).

Van die oomblik van wedergeboorte af begin die klein kindjie in Christus met ‘n geleidelike ontwikkeling na heiligheid [afskeiding van bose dinge en ‘n toewyding aan God], maar om volkome heilig gemaak te word (1 Thess. 5:23) moet hy die krisisondervinding van die dood van die “oue mens” hê, wat die erfsonde is. Hoewel dit ‘n tyd mag neem om te sterf [nie noodwendig ‘n lang tyd nie], breek daar ‘n oomblik van dood aan waarin die werk afgehandel en finaal is. Die slagoffer word bewustelik en genadiglik van “die liggaam van hierdie dood” verlos (Rom. 7:24). Sekere mense glo verkeerdelik dat ons eers by ons fisiese dood van die oue mens verlos word. Die bloed van Christus is egter alleen die middel waardeur ons geheilig word (Heb. 13:12) en dit moet in hierdie lewe gebeur.

Die Bybel impliseer duidelik dat Jesus Christus skaam is om met mense te identifiseer wat nie heilig is nie (Heb. 2:11). Waarom moet Hy nié skaam wees nie? Hy het “vrede gemaak deur die bloed van sy kruis” (Kol. 1:20) tussen ‘n God wat aan sonde aanstoot neem, en ‘n sondige mensdom. Hy het elke voorsiening gemaak om ons “heilig en sonder gebrek en onberispelik voor [God] te stel” (Kol. 1:22). Enige poging om met minder weg te kom, is om tevergeefs op die genade van ‘n heilige God te hoop. Sonder heiligmaking sal niemand die Here sien nie.

Leerstellige Bespreking

Dit word gesê dat Augustinus onder sterk oortuiging was as gevolg van sy moeder se gebede. In sulke tye het hy gebid: “Here, maak my rein, maar nie nou nie.” Hierdeur het hy die mat onder homself uitgetrek. Dit is ‘n jammerlike dag in die Christendom wanneer die kerk homself met sy gunsteling dwalinge besig hou, in plaas daarvan dat hulle in die Bybel die absolute noodsaaklikheid van heiligmaking as ‘n onvermybare vereiste sien.

"Heiligheid is nie ‘n opsie nie. Ongeag hoeveel keer die ernstige Bybelstudent Hebreërs 12:14 gehoor het, kan hy nie help om geskud te word deur die duidelike ultimatum dat sonder heiligmaking niemand die Here sal sien nie. Hierdie ultimatum word oor en oor in verskillende vorms herhaal. In Romeine 6:22 sien Paulus die ewige lewe as die regmatige einde van die “vrug tot heiligmaking” waardeur die dienskneg van God wat van sy sonde vrygemaak is, gekenmerk word. Dit is ook nie sonder rede dat Paulus by die gelowiges in Korinthe daarop aandring om hulleself “van alle besoedeling van die vlees en die gees” te reinig en die heiligmaking in die vrees van God te volbring nie (2 Kor. 7:1). Dit sou lewensgevaarlik wees om dit nie te doen nie. In die vorige hoofstuk (2 Kor. 6:17-18) het hy hulle daaraan herinner dat hulle kindskap absoluut daarvan afhanklik is dat hulle hulself van alle goddeloosheid distansieer. Hulle mag nie eers iets onreins “aanraak” nie.

"Dit is belangrik om te verstaan – en enige kenner van Grieks sal dit bevestig – dat “om die Here te sien” nie van die verkryging van vrede met alle mense afhanklik is nie, maar alleenlik van die besit van heiligmaking. Hoe waardevol en begeerlik harmonie met ander mense ook al mag wees, is dit nie van oorheersende belang nie; daar ís iets wat groter as dit is" (Life in the Spirit, deur R.S. Taylor).

E.C. Blackman sê: “Die mens se grootste behoefte is nie in die eerste plek waarskuwings teen sondige dade nie, maar eerder die reiniging van sy hart waar uiterlike sonde gemotiveer word (Matt. 5:21-32; 6:22-23; 7:17-18; 12:34-35). Christus het gekom om mense te reinig van daardie innerlike onreinheid wat hul lewens besoedel, na verkeerde dade teenoor hulle medemens lei, en hulle ook ongeskik maak om met God te wandel."

J. Paul Taylor sê in sy boek Holiness, the Finished Foundation: “Dit is ‘n onbeskryflike tragedie wanneer iemand op grond van die aanvaarding van enige teorie beïnvloed word om die uur van volkome verlossing uit te stel, want die kern van die saak is nie horlosies of kalenders nie, maar vleeslikheid. Dieselfde vleeslike natuur wat die sondaar beïnvloed om vergifnis uit te stel, beïnvloed ook die gelowige om reiniging uit te stel. Indien die sondaar ‘n paar sondes op ‘n keer vergewe kon word, sou hy dalk nie so rebels gewees het nie. Indien gelowiges bietjie vir bietjie geheilig kon word, sou hulle nie ‘n beswaar daarteen hê nie, omdat daar nog altyd iets van die sondige natuur sou oorbly. Ons word egter nie stuksgewys vergewe nie en ook nie net in afdelings van ons lewe geheilig nie. Dit is in beide gevalle alles of niks nie, daarom is dit ook in altwee gevalle oombliklik.”

Dit was ons doel om bo enige redelike twyfel te bewys dat heiligmaking van elke gelowige verwag word. Vir hierdie doel het ons uit verskeie Bybelverklaarders se werke aangehaal. Almal van hulle is dit eens dat heiligmaking in hierdie lewe verkry moet word. Ongelukkig is daar ook skrywers wat beweer dat die mens se vyand, die dood, hom heilig of die tyd van sy heiligmaking bepaal. God se genade wat by die dood van ‘n persoon aan hom verleen sou word om hom te heilig, is genoegsaam om hom ook nóú te heilig! Christene hét die Heilige Gees wat hulle daagliks heilig – nie net deur die vergifnis van sonde nie, maar ook deur die aflegging van en oorwinning oor sonde; daarom kan hulle heiliges genoem word.

Arminius het gesê: “Heiligmaking is ‘n genadehandeling van God waardeur Hy die mens wat ‘n gelowige én tog ook ‘n sondaar is, van onkunde en inwonende sonde heilig. Dit bestaan uit die doding van die oue mens.”

‘n Heilige God sou ons beslis nie beveel het om heilig te wees sonder om voorsiening te maak dat ons dit ook kan verkry nie. Hierdie voorsiening word uitdruklik in Hebreërs 13:12 gestel: “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.”

Die volgende teks verskaf waarskynlik die rede waarom daar so baie mense is wat hierdie leer weerstaan en verwerp: “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra.” Die gemaksugtige, vleeslike kerkganger hou nie van die kruisweg nie en verkies eerder ‘n bed van rose en strate van goud. “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig" (Gal. 5:24).

Vrae en Antwoorde

Die volgende vrae en antwoorde werp verdere lig op die behoefte aan ‘n heilige lewe. Deur Bybelstudie kan daar verder op hierdie antwoorde uitgebrei word:

1. Wat is die tweevoudige doel van ons lewe as ons God wil behaag?

a.   Om God geheel en al lief te hê en te dien, en sodoende seker te maak jy gaan hemel toe (Matt. 22:37).

Om jou medemens lief te hê en ook soveel as moontlik van hulle te help om in die hemel uit te kom (Matt. 22:39; Mark. 16:15).

2. Wat begeer Satan vir ons?

Om God te mishaag, die duiwel te dien, die hemel mis te loop, andere te mislei sodat hulle ook die hemel misloop, om niemand aan te moedig om die Here te dien nie, om sonde lief te hê, om ‘n sondige lewe te lei, en om ten minste apaties teenoor geestelike dinge te wees.

3. Watter planne kan die vyand gebruik om ons te probeer oortuig om vir hom en nie vir God te dien nie?

a.   Om ons aan te kla (Op. 12:10).

b.   Deur as ‘n engel van die lig aan ons te verskyn, en aan ons “nuwe lig” oor sake te gee, wat in stryd met Bybelse uitsprake is (2 Kor. 11:14).

c.   Hy verblind ons sinne vir geestelike waarhede (2 Kor. 4:4).

d.   Misleiding (Matt. 24:24).

e.   Geestelike afkoeling (Matt. 24:12)

f.     Geestelike louheid Op. 3:14-16).

g.   Geestelike slaap (Spr. 6:10).

h.   Vormgodsdiens, m.a.w. geloof in ‘n leë belydenis (2 Tim. 3:5; Matt. 15:8-9).

i.     Om plesier meer lief te hê as vir God (2 Tim. 3:4).

Verskeie versoekings om sonde te doen (Jak. 1:2; 1 Thess. 3:5).

4. Wat is sommige van die konflikte, druk of versoekings waarmee ons vandag te kampe het?

‘n Negatiewe houding teenoor geestelike sake, onderlinge wantroue, ‘n gebrek aan respek vir gesag, groepsdruk, slegte gewoontes soos die gebruik van dwelms, die beklemtoning van seksuele begeertes, ongeoorloofde seks, oneerlikheid, hebsug, die strewe na mag, selfverheffing, korrupsie, verleiding, materialisme, en ander.

5. Is ons opgewasse teen Satan uit onsself? Indien nie, waarom nie?

NEE! Ons kan hom nie uit eie krag die stryd aansê nie. “Uiteindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Ef. 6:10-12). Selfs die aartsengel, Migael, wat met die duiwel in ‘n stryd gewikkel was, het hom nie self bestraf nie, maar die Here gevra om dit te doen (Judas 1:9). Satan is ‘n gevalle engel (Matt. 25:41; 2 Pet. 2:4; Jes. 14:12-15), en die Here het aan hom ‘n mate van mag toegelaat. Die mens is laer as die engele geskape (Ps. 8:4-5) en is uit eie krag geen portuur vir Satan nie.

6. Aangesien ons versoekings en aanvegtinge van ‘n magtige vyand het waarteen ons weerstand moet bied om te oorwin, kan ons staande bly in hierdie geestelike lou klimaat van vandag? Kan ons ons tweevoudige doel in die lewe vervul? Indien wel, waar kan ons hulp vandaan kry?

Ja! God is ons enigste hulp (Ps. 121:2; Fil. 4:13). Hy sal aan ons uitkoms in tye van versoekings gee, en nie toelaat dat ons bó ons kragte versoek word nie (1 Kor. 10:13). God se genade is voldoende vir al ons behoeftes (2 Kor. 10:13). Ons kan God se geestelike wapenrusting aantrek om teen die liste van Satan staande te bly (Ef. 6:10-11). Deur die bloed van die Lam en die woord van ons getuienis kán ons oorwin (Op. 12:11).

7. God is ‘n heilige God en vereis ‘n heilige lewe van sy kinders. Indien ons hulp van hierdie heilige God moet verkry om te kan oorwin, is die verlossing van sonde ‘n genoegsame ondervinding?

Nee. Redding is ‘n ondervinding van genade waardeur ons dade van moedswillige sonde vergewe word, en waardeur ons weergebore en geregverdig word deur die bloed van Christus. Ten spyte hiervan sê ons wil nog steeds: “Ek wil dinge op mý manier doen – nie op God se manier nie.” Logies gesproke, hoe kan ons van ‘n God met wie ons in ‘n stryd om die beheer oor ons lewe verkeer, verwag om aan ons enige hulp tot oorwinning in ons daaglikse stryd te gee? Uiteraard help Hy die geredde mense wat in die lig van sy Woord wandel, om oorwinnend te leef. Nogtans sal die Here in een of ander stadium aan daardie persoon ‘n bewussyn van sy behoefte aan 'n tweede genadewerk gee, naamlik heiligmaking, waardeur God se wil sy wil word. Indien die persoon sou weier om in hierdie lig te wandel, dan staan Hy die Here teë en kan nie regtig verwag dat die Here hom in tye van nood sal help nie.

8. Wat sê die Bybel oor enige vereistes vir die gelowiges se heiligmaking?

a.   “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking… Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 8).

b.   “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak” (1 Thess. 5:23).

c.   “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Joh. 17:17).

d.   “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely” (Heb. 13:12).

e.   “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring" (2 Kor. 7:1).

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14).

9. Kan ons hemel toe gaan sonder die ondervinding van hartsreiniging?

Die Bybel sê in 1Johannes 1:7 dat “as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” As ons waarlik gered is, sal God sy wil stap vir stap aan ons openbaar as ons Hom sal toelaat. As ons Hom wil behaag, moet ons al sy gebooie bewaar. Ons is in die regte stand voor Hom as ons in ons hele lewenswandel aan Hom gehoorsaam is.

Die Bybel leer ons in Hebreërs 12:14 dat heiligmaking ‘n vereiste is om hemel toe te kan gaan. Indien ‘n persoon lig op volkome heiligmaking [hartsreiniging] gehad en geweier het om dit te soek, dan sal dit in ‘n stadium as ‘n daad van ongehoorsaamheid, of sonde, beskou word. Só ‘n persoon diskwalifiseer homself dan op grond van hierdie sonde vir die hemel.

10. Waarom is heiligmaking God se wil vir ons lewens?

a.   Dit help ons deur die Heilige Gees om die sielevyand te oowin (Ef. 6:10-11).

b.   Dit gee aan ons krag om die evangelie doeltreffend met andere te deel (Hand. 1:8).

c.   God kan nie sonde, of die neiging tot sonde, in sy heilige hemel verdra nie. Ons moet dus sondevry wees om daartoe by te dra om die hemel ‘n rein plek te maak.

d.   God begeer dat ons aan sy beeld gelykvormig moet word.

Heiligmaking is ‘n vereiste as ons God wil behaag en in hierdie wêreld oorwinnend wil leef.

HEILIGHEID IN DIE HEMEL

Die blydskap van die hemel word deur heiligheid bepaal. God se heiligheid skep die atmosfeer wat in die hemel heers. Die verheerlikte gelowige sal nie heilig wees omdat hy in die hemel is nie – hy sal in die hemel wees omdat hy heilig is op grond van die verdienste van die reinigende bloed van Christus. ‘n Siel sonder heiligheid sal nie in die hemel gelukkig wees nie. Die geluk in die hemel word nie slegs deur die eksterne omgewing geskep nie, maar kom wesenlik uit ‘n rein hart en ‘n heilige natuur. Die heiligheid wat ‘n siel in die hemel toelaat, en waaruit die blydskap van die hemel voortspruit, word genadiglik met die hulp van die Heilige Gees in ons huidige toestand van voorbereiding verkry. Op die boog wat ons finale verlossing na heerlikheid oorspan, staan God se uitspraak geskrywe: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14).                                              –Julinan C. McPheeters

REINIGING AAN DIE BINNEKANT

Terwyl ek op ‘n dag in die straat afstap, het ek by ‘n winkel verbygeloop waar ‘n man op die sypaadjie besig was om die groot vertoonvensters van ‘n winkel te was. Daar was een kol wat alle pogings weerstaan het om dit te verwyder. Hy het hard geskuur en baie seep en water gebruik, maar steeds nie daarin geslaag om dit af te kry nie. Uiteindelik het hy agtergekom dat die kol aan die binnekant van die venster was, en iemand geroep om dit daar te gaan afwas.

Baie mense probeer ook om hulle siele van die vlekke van sonde te reinig. Hulle was dit met trane van berou, hulle skrop dit met die seep van goeie voornemens, hulle vryf dit met die lappe van moraliteit, maar steeds kan hulle nie die bewussyn daarvan verander nie. Die probleem is dat die vlekke aan die binnekant is. Niks anders as die bloed van die Here Jesus wat deur die krag van die Heilige Gees toegepas word, kan die binnekant van jou hart reinig nie.

·      Die Bybel sê nie net dat ons heilig behoort te wees nie, maar dat ons heilig kan wees. Die essensie van heiligheid is die besit en uitleef van die sin van Christus, in teenstelling met ‘n vleeslike ingesteldheid.                                                                          – S.D. Herron

·      God sou nie ‘n heilige God gewees het indien Hy enigiets minder as heiligheid van die mens verwag het nie.                                                                                    – Wilbur G. Williams

·      Die bestemming van die mens op aarde is nie blydskap of gesondheid nie, maar heiligheid. Die een doel van God is om mense heilig te maak. Hy is nie ‘n ewige “seën-masjien” vir ons nie. Hy het nie in die eerste plek gekom om mense uit moeilike omstandighede te red nie. Hy het gekom om hulle geestelik van sonde te verlos sodat hulle heilig kan leef.  – Oswald Chambers

·      Heiligheid is nie ‘n luuksheid nie, maar ‘n noodsaaklikheid.

·      Heiligmaking is ‘n oombliklike ervaring van die reiniging van ‘n vleeslike natuur. Dit vind ná wedergeboorte plaas en berus op die voorwaarde van totale toewyding in die geloof. Dit is die voorreg van elke gelowige en kan in hierdie lewe geniet word.

 

3. Die Betekenis van Heiligmaking

Sleutelteks:

"Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan" (Heb. 6:1).

Sentrale waarheid

Volkome heiligmaking word as ‘n tweede genadewerk ná wedergeboorte ervaar.

Les

Mattheus 3:11-12; 5:8

11 Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

12 Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.

Matt. 5:8 Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

Handelinge 8:14-17

14 En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaria die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur.

15 Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,

16 want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus.

17 Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Titus 2:11-14

11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn

12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,

13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,

14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Die werk van die Heilige Gees in die redding van die siel is beide ‘n proses en ‘n krisis. Die Heilige Gees begin hierdie proses deur die sondaar van die afskuwelikheid van sy sonde te oortuig en hom tot bekering op te roep deur die sonde te versaak. Hierdie oortuigingswerk en roeping mag ‘n kort of ‘n lang proses wees. Wanneer die sondaar homself aan die Heilige Gees se bemoeienis onderwerp en hom van sy sonde bekeer, vind die krisiswerk van redding plaas, waarna dikwels as wedergeboorte of die nuwe lewe verwys word. Die Bybel praat daarvan as “die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Titus 3:5).

Die Heilige Gees stel die geredde, nuutgebore Christen in staat om in die lig te wandel en op die bloed van Jesus Christus te vertrou om hom van alle sondes te reinig. Die prosesse wat na regverdigmaking en heiligmaking lei is albei geleidelik. Regverdigmaking en heiligmaking self is egter dade van God waardeur sondes vergewe en die geestelike natuur van die gelowige gereinig en van alle sonde gewas word. Die vroeë dissipels het die Here Jesus in gehoorsaamheid gevolg totdat die Heilige Gees “skielik” oor hulle gekom het en “hulle harte gereinig het deur die geloof” (Hand. 15:9).

Sonde is van só ‘n aard dat die hart nie geleidelik of gedeeltelik daarvan gereinig kan word nie. As die hart sondig is, is dit nie rein nie. As dit rein is, is dit nie sondig nie. Dit is in die krisisondervinding van heiligmaking dat die hart van morele én geestelike verdorwendheid gereinig word.

1. ‘n Leerstelling wat geglo moet word (Mattheus 3:11-12; 5:8)

Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom… sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur (3:11). Hierdie is een van die mees betekenisvolle verse in die Evangelie van Mattheus. Die implikasies van Johannes die Doper se stelling word té dikwels geïgnoreer. Daar is niks uitdruklik Christelik omtrent die waterdoop nie. Die Jode het nie-Joodse proseliete as ‘n teken van die wegwas van hulle seremoniële onreinheid gedoop. Ander godsdienste het ook die waterdoop beoefen. Die enigste unieke Christelike doop is die doop van die Heilige Gees. Dit is nodig om die uitdrukking en met vuur as ‘n aanduiding te neem dat die koms van die Heilige Gees ‘n vurige, reinigende doop van die menslike hart is. Reiniging is ‘n belangrike deel van die verlossing van sonde (vgl. 1 Joh. 1:7, 9). Daar word in die Ou én Nuwe Testamente baie daarvan gemaak dat God sy volk sal reining. Hierdie reiniging vind nie plaas deur die uiterlike ritus van die waterdoop nie, maar deur die innerlike ondervinding van die doop met die Heilige Gees, wat ook die hart vervul nadat Hy dit gereinig het.

Sy skop is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak (3:12). Christus word hier voorgestel terwyl Hy sy dorsvloer skoonmaak. Dit was ‘n gladde area op ‘n rots of  harde grond buitekant die woongebiede, verkieslik op ‘n hoë plek sodat dit aan die wind blootgestel was. Op hierdie vloer is die koring gedors totdat die korrels van die kaf geskei is. Die man het dan ‘n wangaffel gevat [wat hier ‘n skop genoem word] en die koring hoog in die lug opgegooi. Die korrels het reguit afgeval terwyl die ligter kaf deur die wind weggewaai is. Johannes die Doper sê dat Jesus Christus die kaf met onuitbluslike vuur sal verbrand. Dit sal Hy tydens die finale oordeel doen. Die sekerheid van God se oordeel vereis dat ons onsself van ons sonde bekeer en van alle ongeregtigheid in ons lewe verlos word.

Salig is die wat rein van hart is (5:8). Die hart word meer as 800 keer in die Bybel genoem. Daar word meesal hierna verwys as die setel van die mens se gedagtes, begeertes en motiewe. Net soos wat die fisiese hart die sentrum van die lewe is wat die hele liggaam van lewegewende bloed voorsien (Lev. 17:11), is die geestelike meganisme, wat in ‘n figuurlike sin die hart genoem word, die setel waar alle geestelike en morele besluite van die mens geneem word (Spr. 4:23). Dit is waarom die Here gesê het: “Salig is die wat rein van hart is.” Let daarop dat dit in die teenwoordige tydsvorm gesê word. Die implikasie hiervan is dat sommige mense in die huidige wêreld rein harte het. Hierdie karaktereienskap kan slegs deur die Heilige Gees voortgebring word – dit is heiligmaking. ‘n Rein hart is ‘n hart waarin daar niks is wat teen die liefde van God indruis nie. Wesley het van die heiliges gesê: “Dit is hulle wie se harte deur God gereinig is soos wat Hy rein is. Hulle is deur geloof in die bloed van Christus van elke onheilige begeerlikheid gereinig. Hulle het hulleself van alle besoedeling van die vlees en die gees gereinig, en volbring die heiligmaking in die vrees van die Here.” Hulle sal God sien. As die hart rein is, is die oë in ‘n geestelike sin helder. Wanneer die hart en die gewete deur besprinkeling gereinig is, is daar lig om God te sien – nie alleen in hierdie wêreld nie maar ook in die toekomstige. Dawid het gesê: “Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word” (Ps. 17:15).

2. ‘n Ondervinding wat geniet moet word (Handelinge 8:14-17)

Samaria het die woord van God aangeneem (v. 14). In vers 5 staan daar dat Filippus na Samaria gegaan het om Christus daar te verkondig. In verse 6 en 12 word vertel dat hulle die goeie nuus wat Filippus verkondig het, geglo het. Volgens vers 14 het die apostels in Jerusalem, nadat hulle die nuus oor dié herlewing ontvang het, vir Petrus en Johannes na hulle gestuur. Hierdie twee is afgevaardig om deur hulle pogings en gesag vir Filippus in sy werk te ondersteun. Hulle bediening was daarop toegespits dat die mense wat reeds geglo en hulle laat doop het, die ondervinding van die vervulling met die Heilige Gees kon verkry.

Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang (v. 15). Ons sien dat hierdie mense in Samaria nie sondaars was nie, maar gelowiges. Sondaars kwalifiseer nie om die gawe van die Heilige Gees te ontvang nie. Hierdie gedeelte alleen behoort vir altyd die monde te snoer van dié mense wat beweer dat “ons by ons bekering alles kry wat daar is.” ‘n Noukeurige studie van die Nuwe Testament toon aan dat daar in daardie dae altyd ‘n tweede werk van bevestiging was waarop die kerk aangedring het nadat ‘n groep mense tot bekering gekom het. Dit is inderdaad vreemd dat enigeen met ‘n oop Bybel voor hom, die tweede genadewerk van volkome heiligmaking kan ontken.

Want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus (v. 16). Hierdie vers staan in ‘n direkte verband met Petrus en Johannes se bediening. Dit impliseer dat daar geen verband tussen die doop en heiligmaking deur die vervulling met die Heilige Gees is nie. Die ondervinding van vervulling met die Heilige Gees was nie alleen algemeen onder die apostels nie, maar is ook geniet deur ‘n groot menigte gehoorsame, toegewyde mense van Pinksterdag af tot nou toe.

Hulle het hul toe die hande opgelê (v. 17). Hierdie stelling is nie bedoel om ons te leer dat geestelike lewe of genadegawes noodwendig deur die oplê van hande kom nie. In die geval van Cornelius en sy vriende het die gawe van die Heilige Gees sonder handoplegging gekom. Voor dit het die Heilige Gees op ‘n groep dissipels in die bovertrek gekom sonder dat daar hande op hulle gelê is. Die oplê van hande is die formele, uiterlike uitrdrukking van ‘n seën wat die Here aan diegene in die kerk gegee het wat waardige kandidate daarvoor was. Sommige persone gaan deur die uiterlike handeling, maar ontvang niks nie omdat hulle nie in die wil van God is nie, en dus nie in hul harte kwalifiseer om ‘n geestelike seën te ontvang nie. Die Here sien dus die hart van die mens aan.

3. ‘n Lewe wat uitgeleef moet word (Titus 2:11-14)

Die reddende genade van God het aan alle mense verskyn (v. 11). Die genade van God kan in sy goedheid en liefde vir alle mense gesien word. Sy grenslose genade reik na alle mense uit. Dit is deur die menswording van Jesus geopenbaar, en kan ook in sy sigbare gevolge waargeneem word. Dit kan dus gehoor én gesien word. Hierdie genade word aan mense gegee om ook aan andere te gee. Diegene wat nie daarop reageer nie, benadeel hulleself ernstig, want “hoe sal ons ontvlug as ons só ‘n groot saligheid verontagsaam?” (Heb. 2:3).

[Die genade van God] leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe (v. 12). Hierdie vers mag ook só vertaal word: “Dit leer ons om ‘Nee’ te sê vir goddeloosheid en wêreldse hartstogte, en om selfbeheerste, eerlike lewens in die teenwoordige wêreld te leef.” ‘n Heilige karakter, wat heilige gedrag verseker, is die produk van ‘n heilige hart. Dit is ‘n wesenlike deel van die natuur van ‘n geheiligde persoon om homself van “elke vorm van die kwaad te onthou” (1 Thess. 5:22), en om ingetoë, regverdig en vroom te leef. Drie perspektiewe van die Christelike lewe word in hierdie voorskrif ingesluit: ons moet ingetoë met betrekking tot onsself leef, met die nodige selfbeheersing, regverdig teenoor ons medemense op alle verhoudingsvlakke, en vroom en vol liefde teenoor ons Skepper.

Terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag (v. 13). Die heilige lewe van die gelowige, wat ingetoë, regverdig en vroom moet wees, moet verder ook deur die “salige hoop” gekenmerk word. Hierdie hoop is vir ons in die hemel weggelê (Kol. 1:5). Dit is die hoop van heerlikheid wat ons in die Seun van God het, wanneer ons Hom sal sien soos Hy is. Vir ons is die hoop van heerlikheid direk aan die wederkoms van die Here Jesus gekoppel. Diegene wat die Here liefhet, moet gedurig op die vooruitsig van die wederkoms van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, ingestel wees. Die heerlikheid van die eniggebore Seun van God word op ‘n verhewe wyse beklemtoon. Die Godheid van die Ewige Seun word bevestig deur sy beskrywing as die grote God en ons Verlosser.

Wat Homself vir ons gegee het (v. 14). Hy het Homself gegee – die grootste geskenk wat ooit gegee is, om ons te verlos van alle ongeregtigheid. Dit is die doel van die heiligmakende effek van sy versoeningswerk. En vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig. Hy bevry die gelowiges nie net van die bande van wetteloosheid nie (vgl. 1 Joh. 3:4), maar Hy reinig hulle ook só dat hulle waardig is om sy eie volk te wees. Heiligheid is die einddoelwit van die versoening (vgl. Heb. 13:12-13). Die koste vir die mens se volmaakte verlossing is só hoog dat hy nie langer sy eie belange moet dien nie, maar vir die heerlikheid van die Here moet leef (vgl. 1 Kor. 6:19-20). Wat Christus vir die mensdom gedoen het, toon sy liefde vir mense en die groot waarde wat hulle vir Hom het. As gevolg van die goddelike belegging in die lewens van verloste en gereinigde mense, moet hulle ywerig in goeie werke wees. Paulus was uitermate [en met goeie rede] bekommerd oor die beeld wat deur Christene se openbare én private lewens aan die kerk in Kreta [en op ander plekke] gegee sou word. Dit is waarom hy aangedring het op goeie werke as die uiterlike bewys van die innerlike werk van God se herskeppende genade.

Kommentaar oor die Sleutelteks

Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan (Heb. 6:1).

Die jong Christen moet verby die beginpunt van die leer oor Christus vorder, net soos wat hy ook die aard en behoeftes van sy kinderjare ontgroei. Hy het nie aanhoudend nodig om hom van sy vorige sondes te bekeer nie, en hy hoef ook nie weer na ‘n saligmakende geloof te soek nie omdat hierdie elementêre sake afgehandel is. Hierna moet sy geestelike ontwikkeling voortgaan.

Die Pulpit Commentary sê: “Let daarop dat die stelling dat ons ‘nie moet bly by die begin van die prediking nie’, nie beteken dat ons hierdie eerste beginsels moet verwerp nie. Dit is eerder ‘n geval dat ons dit agterlaat soos wat ‘n boom sy wortels in die grond agterlaat en opgroei, maar hy verwerp nooit sy wortels nie. So ook het ‘n volwasse man lankal melkkos met vaste voedsel vervang, en ‘n gebou verrys bokant sy fondament hoewel hy nog altyd daarop staan.”

Voortgaan na volmaaktheid. Die oorspronklike woord hier beteken letterlik dat ons “gebring” of “gedra” moet word na ‘n toestand wat beskryf word as volmaaktheid, volkomenheid of volvoering. Dit is duidelik dat ‘n geleidelike volwassewording van die Christelike karakter nie hier bedoel word nie, hoewel dit progressief deur ‘n mens se lewe ontvou. Hier is sprake van ‘n besliste krisisondervinding wat nie deur ‘n mens se eie pogings realiseer nie, omdat dit ‘n werk van genade is. Dit is die hart, of die liefde in die hart, wat volmaak moet word (1 Joh. 4:17-18), en nie die lewe nie. Nadat die hart volmaak in liefde gemaak is, word dit ‘n baie ryker ontwikkelingsterrein vir die vorming van ‘n Christelike karakter. Hierdie ontwikkeling is geleidelik en sal eers afgehandel wees wanneer die heiliges verheerlik word.

Dit verg drie werke van genade, elk volmaak in sy eie sfeer, om ‘n mens vir die hemel voor te berei. Jy word vryelik geregverdig voor God wanneer elke sonde deur die bloed van Jesus Christus bedek word; jy word volkome geheilig wanneer jy van alle ongeregtigheid in jou hart gereinig word; en jy sal vir ewig verheerlik word wanneer jy ‘n nuwe, sondelose liggaam sal kry en jy sonder enige tekortkominge in die gelykvormigheid van God se volmaakte beeld voor Hom sal kan staan.

In verband met Christelike volmaaktheid haal ons die volgende stelling deur John Wesley aan:

Wat word bedoel met iemand wat volmaak is? Dit is iemand wat “die sin van Christus het,” wat “wandel soos wat Christus gewandel het,” wat “rein hande en ‘n suiwer hart het” omdat hy “van alle besoedeling van die vlees en die gees gereinig is;” iemand in wie daar “geen geleentheid vir struikeling is nie,” en wat as gevolg daarvan “nie sondig nie.” Om dit nóg duideliker te stel: Ons verstaan deur die Bybelse uitdrukking “’n volmaakte man” iemand in wie God sy betroubare woord vervul het: “Van al julle onreinhede en van al julle drekgode sal Ek julle reinig.” Ons verstaan daardeur iemand wat “volkome heilig gemaak is na gees, siel en liggaam;” iemand wat “in die lig wandel soos Hy in die lig is, in wie daar geen duisternis is nie,” want “die bloed van Jesus Christus reinig hom van alle sonde.”

Leerstellige Bespreking

Alle evangeliese Christene glo dat heiligmaking ‘n Bybelse leerstelling is, dat dit volle verlossing van sonde insluit, dat dit op Christus se soendood gebaseer is, en dat dit die erfenis is van hulle wat reeds gelowiges is. Daar is diegene wat glo dat hierdie ervaring by die wedergeboorte verkry word, ander beskou die verkryging daarvan as deel van ‘n geestelike groeiproses, terwyl daar ook diegene is wat glo dat mens dit eers by jou dood verkry (Introduction to Christian Theology).

Dit is waar dat heiligmaking by die eerste werk van genade begin op grond van die reinigende bloed van Christus, maar daar is ook ‘n verdere betekenis van heiligmaking wat opgesluit lê in opdragte wat net aan gelowiges gegee word. ‘n Noukeurige studie van hierdie woorde sal lig werp op heiligmaking as ‘n tweede genadewerk.

Die Griekse woord wat dikwels gebruik word om die ervaring te beskryf waardeur ‘n mens van vleeslikheid ontslae raak om heiligmaking te ontvang, is katharidzo. Hierdie woord het die betekenis van reiniging. Tekste waarin dié begrip gebruik word, is Hand. 15:9, 2 Kor. 7:1 en Titus 2:14. In al hierdie tekste word verskillende vorms van dieselfde woord gebruik.

Die volgende verse gebruik ook hierdie woord om skoonmaak of reinig te beskryf: Matt. 23:25-26, Luk. 11:39. Ef. 5:26, Heb. 10:14 en Jak. 4:8.

Romeine 6:6 gebruik die woord katargeo om aan te toon dat die liggaam van die sonde vernietig kan word. Purkiser sê: “Die term vernietig moet nie versag word nie. Die New International Version se vertaling daarvan as ‘rendered powerless’ is meer ‘n interpretasie as ‘n vertaling. Katargein word op verskeie plekke in die Nuwe Testament gebruik. Die voorkoms daarvan in 1 Kor. 6:13, 15:26, 2 Kor. 3:13, Ef. 2:15, 2 Thess. 2:8 en Heb. 2:14 toon die diepte en intensiteit van die term aan” (Exploring Christian Holiness). In die lig hiervan is dit duidelik dat tot niet maak in ooreenstemming met die bedoeling van Romeine 6:6 is.

‘n Ander woord wat op die vernietiging van die vlees betrekking het, is stauroo. Dit word op só ‘n wyse gebruik dat dit daarop dui dat jy vir die sonde dood is; daarom word jou band met jou vleeslike natuur verbreek. Die vleeslike verdwyn dus uit ons persoonlikheid. Hierdie idee word in Galásiërs 5:24 uitgedruk, asook in Galásiërs 2:19 wat van kruisiging praat.

Hagiadzo word soms gebruik om die afsondering van die gelowige aan te dui, asook sy heiligmaking. ‘n Voorbeeld van hierdie gebruik word in Johannes 17:17 aangetref.

Daar is ook ander woorde wat aandui dat die vleeslike uit ons persoonlikheid verwyder moet word. Vleeslikheid bestaan uit persoonlikheidseienskappe wat daartoe lei dat gelowiges vleeslik optree en die sondaars sondig. Ons is almal sonder die teenwoordigheid van die Heilige Gees gebore, met generiese geneigdhede tot vleeslikheid in ons. Dit is ons oortuiging dat wanneer ‘n persoon volkome heilig gemaak word, die vleeslike neigings uit hom verwyder word.

Dit is belangrik om daarop te let dat niks wat vir ons persoonlikheid belangrik is, vernietig word nie. Die vermoë van ons geheiligde persoonlikheid om sekere van sy eienskappe te misbruik, soos bv. liefde, toorn of saggeaardheid, bestaan nog altyd soos wat dit ook in Adam aanwesig was. Die verskil is net dat Adam nie ‘n persoonlikheid gehad het wat deur sonde beïnvloed is nie. Terwyl ons gees vervolmaak is, wag ons liggaam en verstand nog op die opstanding om ook vervolmaak te word. Dit is waarom ons elke oomblik van die dag die genade van God nodig het om ons verhouding met Hom in stand te hou. Dit is ook waar dat daar onbekende dinge is wat ons doen, waardeur God mishaag word. Ons oordeel oor sake is ook soms verkeerd, en hieruit spruit verkeerde dade. Vir al hierdie dinge het ons die versoenende bloed van Christus nodig om ons in die regte verhouding met God te hou.

‘n Vergelyking tussen die twee werke van genade sal die verskille tussen hulle duidelik aandui:

Die eerste werk

Die tweede werk

1. ‘n Geboorte (Joh. 3:3)

1. ‘n Dood (Rom. 6:6).

2. Wedergeboorte (Titus 3:5)

2. Loutering (Mattt 3:11-12)

3. Vergifnis (Ps. 25:11)

3. Reiniging (Hand. 15:8-9).

4. Bekering (Hand. 3:19)

4. Heiligmaking (2 Kor. 7:1)

Wanneer daar oor die tweede werk van genade gepraat word, word die opdrag en beloftes altyd aan mense gerig wat reeds weergebore is. Neem bv. die boek Efésiërs. In hoofstuk 1 sê Paulus dat hulle reeds die verlossing het (1:7). In hoofstuk 2 sê hy dat hulle geestelik lewend gemaak is (2:5). In 3:12-20 vind ons dat daar vir hierdie ‘lewende’ Christene gebid word dat hulle deur die Heilige Gees met die krag (3:16) en volheid (3:19) van God vervul sal word. Wanneer hulle hierdie vervulling verkry het, het hulle die tweede werk van genade ontvang. Dan sal hulle die werke van die vlees aflê en in suiwer liefde teenoor mekaar én teenoor God wandel. Hoewel baie van die Efésiërs  hulle eerste liefde verlaat het (Op. 2:4), kán hulle volgens Efésiërs 5:2 hierdie liefde behou en voortdurend daarin wandel.

Vrae en Antwoorde

Die volgende is vrae wat dikwels oor heiligmaking gevra word, asook die antwoorde daarop:

1. Wat is volkome heiligmaking?

Dit is die tweede, besliste werk van genade waardeur die hart van ‘n geregverdigde persoon van die Adamiese natuur gereinig en met die Heilige Gees vervul word. Dit sluit ‘n volle oorgawe aan God se wil in, en ook ‘n oorgawe aan die Heilige Gees om die hart van alle neigings tot sonde te reinig en met sy teenwoordigheid te vul.

2. Wat is toewyding?

Dit is ‘n daad van jou waardeur jy aan God die volle beheer oor elke faset van jou lewe gee – oor jou loopbaan, jou besittings, jou gesin, jou drome en jou tydsverdryf – nou én in die toekoms. Daar moet niks teruggehou word nie. God sal jou nie heilig voordat jy alles aan Hom toegewy het nie.

3. Is Heiligmaking dieselfde as toewyding?

Nee. Ons gee ons harte aan die Here oor en wy dit aan Hom toe. Hy heilig dit dan deur dit te reinig, met sy Heilige Gees te vervul en ons vir sy diens af te sonder.

4. Wat is sommige van die name vir volkome heiligmaking?

Christelike volmaaktheid, volmaakte liefde, hartsreiniging, vervulling met die Heilige Gees, die volheid van die seën, volle verlossing, die dieper lewe, Christelike heiligheid, Bybelse heiligheid, en die belofte van die Vader.

5. Wat is die verskil tussen verlossing en volkome heiligmaking?

“Sonde is wetteloosheid” (1 Joh. 3:4). Elkeen van ons het dinge gedoen wat ons weet dat dit oortredinge van God se wette is. Hierdie dade van sonde het daartoe gelei dat ons in disharmonie met God geleef het. Om in die regte verhouding tot God te kom, moet ons ‘n goddelike berou oor ons sonde hê, ons daarvan bekeer en glo dat God al ons sondes om Christus ontwil vergewe. Hierdie redding, wedergeboorte en regverdigmaking van ‘n sondaar word verlossing genoem.

Hierna is daar nog steeds ‘n natuurlike neiging om verkeerd te doen, waarmee elkeen van ons gebore is. Dit word deur verskillende name genoem, insluitende vleeslikheid. Aangesien ons hiermee gebore word, is dit nie ‘n daad van sonde waarvoor ons vergewe kan word nie. Ons moet daarvan gereinig word – dit moet deur die reinigende krag van die Heilige Gees ontwortel en verwyder word. Ons wy ons alles aan God toe, en Hy reinig ons harte van hierdie neiging om te sondig, en vervul ons ook met sy teenwoordigheid. Dit is volkome heiligmaking.

6. Kan ‘n mens verlossing en volkome heiligmaking op dieselfde oomblik kry?

Nee, dit is twee afsonderlike, definitiewe werke van genade, soos hierbo aangetoon. Handelinge 3:19 sê: “Bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word.” ‘n Opregte bekering van jou sonde, tesame met geloof dat die Here jou dit sal vergewe, lei na jou verlossing [of redding] deur die Here. Dit is die eerste werk van genade wat in die hart van die sondaar gedoen word.

Ander gedeeltes in die Bybel dui op die vervulling met die Heilige Gees, of volkome heiligmaking, as ‘n tweede besliste werk van genade. Dit is slegs vir diegene wie se sondes reeds vergewe is. In Johannes 14:16-17 dui Jesus aan dat volkome heiligmaking ‘n tweede werk van genade is vir diegene wie se sondes reeds vergewe is. Hy sê aan sy dissipels: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

7. Is volkome heiligmaking ‘n krisisondervinding of ‘n proses? Kan mens in dit ingroei?

Die uitdrukking ‘groei in genade’ dui aan dat terwyl ons aanhou om in die lig te wandel en God se opdragte uit te voer, sal ons geestelik groei. Hoewel ons “in” die genade groei, groei ons nie van buite af “daarin” nie. ‘n Sondaar moet eers van sy sonde gered word. Daarna moet hy op ‘n bepaalde tyd of plek die ondervinding van heiligmaking soek. Hy sal nie vanself in dit ingroei nie. Wanneer hy die tweede genadewerk in ‘n krisisondervinding deelagtig geword het, kan hy verder in die genade groei en toeneem.

‘n Voorbeeld van só ‘n krisisondervinding kry ons in Efésiërs 4:22 en 24 waar Paulus aan die gemeente sê “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan... en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” Die oue mens met sy sonde-geneigdheid moet afgelê word voordat ons onder die leiding van die Heilige Gees met die nuwe mens beklee kan word wat deur ware heiligheid gekenmerk word. Dit is ‘n besliste stap en nie ‘n proses nie.

8. Indien volkome heiligmaking so belangrik is, waarom kan redding nie oorgeslaan en ‘n persoon regstreeks geheilig word nie?

Die Here Jesus het gesê dat die wêreld [die sondaars] nie die inwoning van die Heilige Gees kan ontvang nie, omdat hulle ‘n ander god, Satan, dien. ‘n Persoon se hart moet deur die vergifnis van alle dade van sonde vir reiniging voorberei word. Dan kan hy, as ‘n volgeling van Christus, na die volheid van die seën soek. Die Heilige Gees kan dan die weergebore hart van ingebore sonde reinig en dit met sy teenwoordigheid en krag vervul.

Redding [of verlossing] is essensieel om in die regte verhouding met God te kom. Ons sondes móét eers vergewe word in ‘n eerste definitiewe werk van genade. Daarna moet ons egter verder gaan en die Heilige Gees toelaat om die neiging tot sonde uit ons harte te haal. Hy sal ons reinig en met sy teenwoordigheid vervul as ‘n tweede definitiewe werk van genade – dit is volkome heiligmaking.

 

4. Die Eienskappe van ‘n Heilige Lewe

Sleutelteks

"Vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid" (1 Tim. 6:11).

Sentrale waarheid

Die essensie van ‘n heilige lewe bestaan uit ‘n mens se gewilligheid om aan die natuur en wil van God gelykvormig te word.

Les

Galásiërs 5:22-26

22 Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

23 Teen sulke dinge is die wet nie.

24 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.

25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.

26 Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.

1 Petrus 2:21-25

21 Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg.

22 Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie;

23 wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel;

24 wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.

25 Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.

Efésiërs 4:20-24

20 Maar julle het Christus nie so leer ken nie,

21 as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus:

22 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,

23 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed

24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Heiligheid is meer as ‘n blote idee en meer as net ‘n ideaal. Heiligheid is die wesenlike eienskap van God se morele natuur. Dit is die heilige natuur van God wat die standaard vir moraliteit in die harte van mense én in hulle optrede is. Die eienskappe van heiligheid word nie deur kerke of deur mense vasgestel nie, maar vloei voort uit die heiligheid van God self. Korrekte gedrag is dit wat met God se heilige natuur in ooreenstemming is, en gedrag is verkeerd as dit nie daarmee in harmonie is nie.

Die eienskappe van heiligheid is nie relatief nie, maar absoluut en onveranderlik. Reinheid, geregtigheid en waarheid is oral en in alle tydperke reg omdat dit in harmonie met God se natuur is en dit reflekteer. Moord, oneerlikheid, morele perversie en losbandigheid is oral en ten alle tye verkeerd omdat dit in botsing met die heilige, morele natuur van God is. Die samelewing se gewoontes en die kerke se standaarde mag ten goede of ten kwade verander, maar God se heilige natuur bly altyd dieselfde. Dit is die absolute maatstaf waarmee die korrektheid van die samelewing se gewoontes en die standaarde van kerke en individue bepaal kan word. Die morele eienskappe van heiligheid is so onveranderlik soos God self.

1. ‘n Lewe van vrugbaarheid (Galásiërs 5:22-26)

Maar die vrug van die Gees is liefde… (v. 22-23). In die morele sowel as in die natuurlike sfere is daar geen plaasvervangers vir vrugte nie. Die vrug van die Gees is liefde uit ‘n rein hart wat in ons lewens uitdrukking vind. Daar is nege vrugte van die Gees wat ‘n hele reeks etiese en geestelike waardes insluit. Die eerste groep van drie het met ons verhouding tot God te doen. Liefde is natuurlik die grondslag. As die uitdrukking van heiligheid is dit die eienskap wat die natuur van God beskryf. Dit is “in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5). Blydskap is die houding wat uit die diepte van ‘n siel ontspring waar alles reg is omdat Christus die Here is en die volheid van lewe deur die Heilige Gees ervaar word. Vrede is die gevoel wat uit ‘n harmonieuse verhouding met God vloei.

Die tweede groep van drie het op ons verhouding met ander mense betrekking. Lankmoedigheid is ‘n deug van geduldige volharding tydens negatiewe houdings en aksies deur ander mense. Vriendelikheid is ‘n goedgunstige en positiewe ingesteldheid teenoor ander, ongeag die omstandighede. Goedheid is ‘n houding van die hart en lewe van ‘n persoon wat daarop ingestel is om goed aan ander te doen.

Die derde groep het betrekking op beginsels wat ‘n Christen se gedrag reël. Getrouheid is die eienskap van betroubaarheid in die uitvoering van jou verpligtinge. Sagmoedigheid is nie ‘n teken van swakheid nie, maar van krag. Die sagmoedige man het genoeg krag van karakter om onder druk vriendelik en gematig op te tree. Selfbeheersing is die kroon van die Geesbeheerde lewe. Dit verondestel beheer oor alle begeertes, gemoedstoestande en hartstogte.

Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees gekruisig (v. 24). Dit beteken nie dat Christene wat deur die Gees wandel, nie meer in liggame leef en ook nie meer drange en begeertes het nie. Die Here vernietig nie in sy verlossingswerk dit wat Hy as Skepper gemaak het nie. In sy genade is daar egter voorsiening gemaak om die kwessie van prioriteite en beheer te kan bepaal. “Wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede” (Rom. 8:6). Wat ‘n mens se wil betref wat op dinge ingestel is wat geestelike oorwinning belemmer, is daar ‘n kruisiging wat die vleeslike vernietig, verlossing van die menslike verleen en die geestelike op die troon plaas.

As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel (v. 25-26). Indien dit ons ervaring is, moet ons nie toelaat dat ons in verkeerde houdings of gesprekke ingetrek word nie. Ons moet ook nie ydele eerbetoning soek deur groot te praat nie, want dit verwek ander mense se toorn of afguns.

2. ‘n Lewe van Christusgelykvormigheid (1 Petrus 2:21-25)

Want hiertoe is julle geroep (v. 21). Christus was die beeld van die onsigbare God, en Christene moet in hierdie wêreld in die gelykvormigheid van die Seun leef (vgl. 1 Joh. 4:17). Jesus Christus is die voorbeeld. Die basiese ontwerp van die evangelie is om Christelike beginsels op mense se moraliteit en pligte te laat rus. Omdat Christus ook vir ons gely het. Hy het na hierdie wêreld gekom, gely, gebloei en gesterf vir die sondes van baie. Hy het egter veel meer gedoen as om die volmaakte offer vir die versoening van ons sondes te bring: Hy het ook die volmaakte patroon vir mense gevestig om na te volg deurdat Hy vir ons ‘n voorbeeld nagelaat het. Ons lewens moet in alle opsigte met dié van Christus ooreenstem, sodat ons sy voetstappe kan navolg.

Hy wat geen sonde gedoen het nie (v. 22). Petrus gaan voort om op die voorbeeld van die Here Jesus uit te brei. Hy het nooit sonde gedoen nie, hoewel Hy net so ‘n mens soos jy en ek was. Hy het gely, maar nie as gevolg van enigiets boos wat Hy gedoen of gesê het nie. In woord en daad was Hy onbevlek, en tóg is Hy aan lyding onderwerp. Jy kan verwag dat dieselfde met jou sal gebeur, en wanneer dit wél gebeur, verduur dit dan in dieselfde gees. Jesus Christus het nooit in daad gesondig nie, en in sy mond is geen bedrog gevind nie. Sondeloosheid wat die mond betref, is ‘n teken van volmaaktheid. Hoe min mense volg hierdie voortreflike voorbeeld van die Meester! En tóg sê Jakobus: “As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en nie sy tong in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs” (Jak. 1:26). Die tong het ‘n wortel wat tot in die hart afdaal, en as die hart besoedel is, sal dit wat uit die mond kom ook só wees. Die enigste manier waarop ‘n mens soos Jesus Christus kan wees, is om sy reddende en heiligende genade te ervaar, waardeur die hart gereinig word.

Toe Hy uitgeskel is, het Hy nie terug uitgeskel nie (v. 23). Jesus het die basiese leerstelling van die Bybel duidelik geïllustreer dat “liefde die vervulling van die wet is” (Rom. 13:10). Hy het geweier om weerwraak te neem en kwaad met kwaad te vergeld (vgl. Rom. 12:17). Toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie. Christus het elke moontlike belediging verduur, maar Hy het ten alle tye volkome eerbaar opgetree. Niks minder nie as volkome heiligmaking, waardeur die vleeslike natuur vernietig word, sal ons kwalifiseer om die karakter van die groot Voorbeeld na te volg. [Hy het] dit oorgegee aan Hom wat regverdig oordeel. Dit lyk of Petrus in hierdie gedeelte Jesaja 53:7 in gedagte gehad het. Clarke sê: “Hoewel Hy sy oortreders op enige wyse kon straf, het Hy, om aan ons ‘n voorbeeld te gee om na te volg, die saak in die hande van Hom gelos wat ‘n regverdige Regter is. Dit sal tot ons groot voordeel wees om in alle gevalle van ‘n ontvlammende humeur en die gevaar daaraan verbonde om onsself te wreek, die saak in die hande van God te laat. Ons kan verseker daarvan wees dat die Regter van die hele wêreld die beste stappe sal neem.”

Wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het (v. 24). Jesus was die enigste persoon wat só ‘n offer kon bring. Hy was die eniggebore Seun van God wat sondeloos was en vir die sondaars gesterf het. Hy het Homself gewilliglik gegee sodat ons die sondes kan afsterwe en vir geregtigheid lewe. Die gevolge van sy dood vir sonde in sy somtotaal, en ook vir elke individuele sonde, is dat ons volkome daarvan verlos kan word. In Christus se dood kan ons die sonde afsterwe en daarvan bevry word, net soos ‘n slaaf van diens aan sy meester vrygestel word wanneer hy sterf. Hierna is ons vry om vir die geregtigheid te lewe.

Want julle was soos dwalende skape (v. 25). Wat hier beskryf word, is die toestand van die hele menslike ras buite die genade van Christus. Die taal wat hier gebruik word, stem baie ooreen met dié van Paulus: “Hulle [is] almal onder sonde… Hulle het almal afgewyk” (Rom. 3:9, 12). Julle “was dood deur die misdade en sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk" (Ef. 2:1-2). Clarke parafraseer hierdie teks só: “Vroeër was julle nie in ‘n beter morele toestand as julle onderdrukkers nie; julle was soos dwalende skape in die woestyn van onkunde en sonde totdat Christus, die ware en genadige Herder, julle uit jul dwalinge teruggeroep het deur die evangelie van sy genade aan julle te stuur.” In die lig van hierdie feit betaam dit elke opgespoorde en herstelde persoon om ‘n lewe van dankbaarheid teenoor die Herder en Opsiener van ons siele te lei.

3. Die regte lewenswandel (Efésiërs 4:20-24)

Maar julle het Christus nie so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor het (v. 20-21). Hier is ‘n oproep vir ‘n transformasie vanaf die ou lewe na die nuwe lewe in Christus, wat die lewe en karakter van Christus self behels. Die Christelike lewe is meer as net ‘n hoër morele ideaal as dít wat in die heidense lewenswyse moontlik is, hoewel dit ook dit is. Dit is ‘n letterlike toetrede tot die lewe van Christus self en die ervaring van die herskeppende krag van sy opstanding. Die Christelike lewe is meer as die blote aanvaarding van die leerstellings van Christus, of ‘n gepoogde beoordeling van sy voorbeeld. Dit is die geloofsaanvaarding van sy persoon in ons lewens (vgl. Kol. 1:27). Om ‘n Christen te wees behels nie net om oor Christus te leer nie, maar om Christus self te leer ken. Jy moet van Hom hoor en in Hom onderrig word soos die waarheid in Jesus is. Enigiets minder as só ‘n persoonlike ontmoeting met die lewende Seun van God sal die siel sonder enige goddelike krag laat waardeur die ou lewe verwerp en die nuwe lewe uitgeleef kan word.

Dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê (v. 22). Sommige heiligheidsverklaarders sien hierdie opdrag in algemene terme en glo dat die oue mens dit is wat jy in beginsel reeds by jou bekering aflê en later in ‘n stap van volle oorgawe heeltemal oorwin. Ander is meer spesifiek en sê dat die oue mens die vleeslike natuur is wat in ‘n ondervinding van volkome heiligmaking afgelê en verwyder word.

En vernuwe moet word in die gees van julle gemoed (v. 23). Die ‘gemoed’ word hier verstaan as die gees, eerder as die verstand. Dit is die hoogste vermoë van die mens. Hierdeur kan hy God ken, hom in God verbly en Hom verheerlik. Dit is ook hierdie eienskap van hom wat die meeste soos God is. Van nature is die gees egter onder die heerskappy van die sonde. Dit is waarom die ou lewenswyse afgelê en ‘n nuwe een aanvaar moet word. Die gees van ons gemoed moet vernuwe word sodat die hele lewenswandel ook verander en vernuwe kan word.

En julle met die nuwe mens beklee (v. 24). Die gedagte hier is om die nuwe lewe aan te trek soos ‘n kleed. Dit is ‘n skepping van God in ware geregtigheid en heiligheid, en dui op die innerlike werk van heiligmaking wat aanvullend tot die vernuwing van ons gemoed in vers 23 is.

Kommentaar oor die Sleutelteks

Vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid (1 Tim. 6:11).

Hierdie vermaning is aan Timótheus, die jong prediker in Éfese, gerig, maar dit het ook op alle gelowiges betrekking. In die vorige verse van die hoofstuk spreek Paulus leerstellige dwalinge en die liefde vir geld aan. Dit is van hierdie gevare dat hy Timótheus waarsku om weg te vlug. Dit is van die uiterste belang dat die man van God duidelik en reguit in sy leer én sy lewe sal wees, anders sal hy homself mislei, sowel as baie mense wat na hom luister. Dit is eweneens belangrik dat hy nie rykdom sal nastreef nie. Die begeerte vir hierdie dinge laat baie predikers wegval uit hulle roeping, of, ten minste, ‘n belangrike sylyn van geld maak. Terwyl die mense van die wêreld hierdie dinge najaag, moet die manne wat God liefhet, met hulle hele hart daarvan wegvlug.

Geregtigheid. “Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil” (Ps. 23:3). Die Nuwe Testamentiese standaard vir gelowiges is die vervulling met die Heilige Gees, wat ons “in die hele waarheid sal lei” (Joh. 16:13). Geregtigheid is om dit te doen wet reg teenoor God én mense is.

Godsaligheid. “Dit is die eerbiedige bewussyn dat ons hele lewe in die teenwoordigheid en onder die oë van God gelei word” (Beacon Bible Comm.). Die godvresende persoon is nie onverskillig as hy alleen is, saam met ander gelowiges óf as hy saam met vreemdelinge is nie. Sy beginselvaste lewe is die produk van God se genade. Die goddelose is nie so nie. Hulle mag probeer om moreel korrek op te tree, maar hulle is nie sonder sonde nie. Net God kan ‘n mens godvresend maak.

Geloof (getrouheid). Hy wie se geloof tydens teëstand wankel, sal spoedig ophou om getrou te wees. Dit is gebiedend noodsaaklik dat Christene ten alle tye en onder alle omstandighede getrou sal bly en aan die geloof sal vashou. Dit het Job deur die donkerste beproewings gedra: “Al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom” (Job. 13:15). Nadat Paulus groot vervolging verduur het en op die punt gestaan het om tereggestel te word, het hy gesê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Tim. 4:7).

Liefde. Die Here stort sy goddelike liefde in ons harte uit en dit dwing ons om God én ons medemens lief te hê. Ons word met koorde van liefde na die Here toe getrek, daarom is dit ons kosbaarste besitting (Pulpit Comm.). Liefde is só belangrik dat alle ander gawes en prestasies in vergelyking daarmee as niks gereken word nie. Om die toepaslikheid daarvan op menseverhoudings te begryp, lees 1 Korinthiërs 13.

Lydsaamheid. Dit is die eienskap wat ‘n mens bestendig en koersvas onder beproewings hou. Ná ‘n lang tyd van swaar beproewing mag ‘n mens in die versoeking kom om onder die aanhoudende druk te swig. Dit is dan wanneer die vasberadenheid om aan te hou om goed te doen, ons op die pad hou en uiteindelik by ons heerlike bestemming laat uitkom.

Sagmoedigheid. Dit is die vermoë tot ‘n sagte en beheerste reaksie te midde van kritiek en aanvegtinge teen jou. Dit is die teenoorgestelde van skielike toorn, kwaadwilligheid en wraak. Sagmoedigheid werk vrede in die hand. Dit is die bewys van die ware grootheid van jou siel. Dit kom uit ‘n hart wat té groot is om deur beledigings beïnvloed te word. Here, gee ons meer sagmoedigheid.

Leerstellige Bespreking

Wanneer ons na die noodsaaklike eienskappe van ‘n heilige lewe kyk, dan besef ons dat hierdie eienskappe tydens die wedergeboorte in ons lewe begin. ‘n Goeie illustrasie hiervan is Jesus se gelykenis van die saaier.

‘n Saaier het uitgegaan om te saai (Matt. 13:3-9, 18-23). Die basiese elemente was dieselfde. Die saad [die woord van God] en die saaier was dieselfde. Die grond [die harte van mense] was die enigste terrein waarop daar verskille was.

Die eerste hart was hard en onontvanklik vir die woord van God. Dit mag ‘n beskrywing van die skrifgeleerdes en Fariseërs wees, maar hulle is beslis nie Christene nie.

Die tweede hart was vlak. Dit was een wat deur emosies oorheers word. Voordat die hart ten volle deur ‘n bekering voorberei is, het die emosies oorgeneem en dié dinge wat deur ‘n ware berou aan God bely sou word sodat Hy dit kon wegneem, na die onderbewussyn weggevee. Hierdie persoon het net ‘n oppervlakkige ondervinding met die Here gehad, maar dit verdwyn in die hitte van vervolging, of selfs net wanneer die emosies weer afneem.

Die derde hart is die belemmerde hart. Hierdie persoon het ‘n werklike geboorte deur die Gees van God gehad, en het geestelik goed begin. Die sorge van die lewe het sy hart egter só vervul dat hy nie tyd gehad het vir genademiddels soos gebed, Bybellees, byeenkomste met ander Christene of vir sielewenning nie. Hierdie persoon word deur die genotsugtige dinge van die nie-Christelike wêreld verstik, en dit belemmer sy geestelike ontwikkeling: “Die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar” (Matt. 13:22). Die onkruid van wêreldsgesindheid, die dorings van kritiek en die aantrekkingskrag van rykdom groei in sy hart totdat hy sy getuienis verloor, indien nie ook sy Christelike ondervinding nie.

Die vierde hart was die geheiligde hart. Hierdie persoon het toegewyd die voortreflikhede van die vrug van die Gees gekweek sodat hulle in ‘n oorvloedige mate in sy lewe sigbaar was. Hy was ‘n sielewenner deur sy teenwoordigheid, sy woorde, sy volharding en die program van sy lewe. Hy was die persoon wat vrywilliglik aangebied het om Christus te volg toe Hy nog hier was. Hy het nooit teruggedeins toe hy gehoor het dat daar probleme was nie, en kon ook nie deur sy familie oorgehaal word om by hulle te bly wanneer hy die oortuiging gehad het dat hy iewers moes heengaan om vir Jesus te werk en te getuig nie.

Dit is ‘n ontstellende gedagte om daaraan te dink dat daar met die saad [God se woord] en die saaier niks verkeerd was nie, en tóg was die helfte van die mense wat deur die grond voorgestel word, ongered en nóg ‘n kwart was onproduktief met geen vrug [of slegs misvormde vrugte] om aan die wêreld te bied. Dit is tragies dat net ‘n kwart die woord ontvang en met rein harte vrug gedra het.

Een van die belangrikste eienskappe van ‘n geheiligde Christen is dié van toewyding. In Lukas 9:23 sê Jesus: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” Hieruit blyk daar drie eienskappe wat die geheiligde kind van God in ‘n volle mate moet hê. Hulle is: kruisiging [selfverloëning], heiliging [om elke dag die kruis op te neem] en toewyding [om Christus te volg]. Die woord “volg” in Grieks is in die bevelsvorm en teenwoordige tyd. Dit beteken dat daar geen verlating van die ware koers van die Christen mag wees nie.

Die wêreld is egter met ander dinge besig. Hulle wil hê dat die Christendom na húlle pype moet dans. Die wêreldlinge in die kerk hou niks van suiwer leerstellige prediking nie, omdat hulle kerk toe gaan om vermaak te word.

Vir die Christen gaan dit om die liefde van God. Die eerste eienskap wat Paulus van ‘n goeie Christen in Galásiërs 5:22 noem, is liefde. Jesus het ook die wette van God in twee beginsels opgesom, naamlik die hoogste liefde tot God, en die opofferende liefde vir ons medemens. ‘n Persoon kan egter nie sy medemens soos homself liefhê voordat Galásiërs 5:24 in sy lewe vervul is nie: “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.”

Onder die leiding van die Heilige Gees sê Paulus die volgende: “Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ‘n nog uitnemender weg” (1 Kor. 12:31). Daar is geen groter weg as die weg van die liefde nie. Die eienskappe daarvan word in 1 Korinthiërs 13 beskryf. Ons moet die Skrifte ondersoek en ons kennis oor Jesus verdiep. Dan sal ons nie tyd hê om so baie fout te vind met ander Christene nie, want ons sal besig wees met die verbetering en veredeling van ons eie siele sodat die lewe van Jesus deur ons kan skyn en mense vir Hóm in ons lewens sal kan sien, eerder as vir onsself.

Vrae en Antwoorde

Die vrae en antwoorde handel oor die eienskappe van ‘n heilige persoon:

1. Is dit in orde om na ander mense te kyk as voorbeelde van ‘n heilige lewenswandel?

Ja, dit kán voordelig wees om positiewe tekens en goddelike karaktertrekke in persone te sien wat rolmodelle vir ons is. In 1 Timótheus 4:12 sê die Bybel: “Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof in reinheid.” Handelinge 1:8 sê dat ons “getuies” vir andere sal wees. Dit kan aan ons ‘n praktiese, ooggetuie voorbeeld van die beoefening van heiligheid op aarde gee wanneer ons na ander Christene se lewens kyk. Ons kan hieruit bemoediging put.

2. Is daar enige gevare aan verbonde as ons na andere as voorbeelde van ‘n regte lewe kyk?

Christene is menslik en kan ook faal en selfs val. Daar is verskeie voorbeelde hiervan as ons rondom ons in die Christenwêreld kyk. As ons nét na andere kyk, kan ons dalk mislei en ontmoedig word, en dan self terugval en die pad byster raak.

3. Wie is volgens die Bybel ons voorbeeld vir die regte Christelike lewe?

Volgens 1 Petrus 2:21-22 is Jesus Christus ons voorbeeld, omdat Hy reg gelewe het voor God én die mense en nooit gesondig het nie.

4. As Christus dan ons voorbeeld is, hoe was sy lewe op aarde?

Die volgende was sekere van die eienskappe van sy lewe:

a.   Hy gee om (Mark. 4:38-39).

b.   Hy is jammer vir dié wat ly (Mark. 1:41).

c.   Hy het nie kwaad met kwaad vergeld nie (1 Pet. 2:23).

d.   Hy het meegevoel gehad (Heb. 4:15).

e.   Hy was vriendelik teenoor sondaars én heiliges (Matt. 11:19; Joh. 12:1-2).

f.     Hy was vol liefde (Ef. 3:19).

g.   Hy het sy lewe vir andere gegee (Joh. 10:17-18).

h.   Hy was hulpvaardig (Joh. 21:4-9).

i.     Hy het die landswette gehoorsaam wat nie met God se Woord in stryd was nie (Matt. 17:24-27; 22:17-21).

j.     Hy het die evangelie met andere gedeel (Matt. 9:13).

k.   Hy was sondeloos (1 Pet. 2:22).

l.     Hy was simpatiek teenoor dié wat ‘n geliefde verloor het (Joh. 11:32-36).

m. Hy was wys (Matt. 13:54).

5. Wat is sekere van die eienskappe wat ons deur ‘n heilige lewe moet vertoon?

a.   Die vrug van die Gees: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal. 5:22-23).

b.   Wees soos Christus (1 Pet. 2:21).

c.   Wees Geesvervuld (Ef. 5:18).

d.   Wees regverdig (Titus 2:12).

e.   Vertoon godvresendheid (Titus 2:12).

f.     Leef ingetoë en vroom (Titus 2:12).

g. Dra vrug (Joh. 15:8).

6. Wat is sekere eienskappe wat nié deel van ‘n heilige lewe is nie?

Oneerlikheid, haat, kwaadwilligheid, ‘n wraaksugtige gees, selfsugtigheid, wêreldsgesindheid en materialisme ten alle koste.

7. Wat stel ons in staat om te leef soos ons behoort te leef?

Die Gees van God wat in ons woon, gee aan ons die krag om die Here te dien en reg te leef. Dit kan nie in die vlees gedoen word nie (kyk Hand. 1:8; Joh. 16:13; Rom. 8:14, 26, 27; 15:17-19; Gal. 5:16-18; 1 Pet. 1:22; 1 Joh. 3:24; 5:6).

8. Waar kan ons die nodige hulp verkry om reg te leef?

Vra die Here in gebed vir al die hulp wat jy nodig het. Glo opreg dat Hy jou sal help. Volhard op die pad van die regverdiges, ongeag die omstandighede. Die Here toets dalk jou geloof. Aanvaar altyd dat Hy net die beste bedoelings met jou het.

WARE HEILIGHEID

Ware heiligheid is, volgens G. Campbell Morgan:

·      nie die onvermoë om te sondig nie, maar die vermoë om nie te sondig nie.

·      nie vryheid van versoekings nie, maar die krag om versoekings te oorkom.

·      nie onfeilbare oordeel nie, maar ‘n ernstige en eerlike poging om God se wysheid te volg.

·      nie verlossing van die liggaam se swakhede nie, maar oorwinning daaroor.

·      nie kwytskelding van konflik nie, maar die vermoë om dit waardig te kan hanteer.

·      nie vryheid van geestelike foute nie, maar die genadige vermoë om nie moedswillig te fouteer en terug te val nie.

·      nie die einde van groei nie, maar die verlossing van geestelike stagnasie.

·      Watter Christen sal nie die skoonheid en seën van só ‘n lewe begeer nie?

Dit is ‘n misleidende gedagte dat enige persoon volkome geheilig kan wees en dan nog steeds bitterheid, vitterigheid en harde kritiek in veroordelende woorde en houdings kan openbaar. Die ware aard van heiligheid is liefde uit ‘n rein hart.                                  – Dr. G.B. Williamson

Heiligheid is nie ‘n menslike lewe wat tot op die hoogste vlak van ontwikkeling gebring is nie, maar ‘n goddelike lewe wat tot op die laagste vlak van neerbuigendheid gebring is.

 

5. Die Heilige Gees en ‘n Heilige Lewe

Sleutelteks

"God het julle van die begin af verkies tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid" (2 Thess. 2:13).

Sentrale waarheid

God bied die bediening van die inwonende Heilige Gees aan ons om ons meer Christusgelykvormig te maak.

Les

Johannes 7:37-39

37 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!

38 Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.

39 En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

Johannes 14:16-18

16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:

17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; ek kom weer na julle toe.

1 Korinthiërs 2:9-13

9 maar soos geskrywe is: wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.

10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.

11 Want wie van die mense weet wat ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.

12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.

13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

Hebreërs 10:12-16

12 maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God

13 en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete.

14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.

15 En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis;

16 want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Die Heilige Gees word nie só genoem omdat Hy meer heilig as die Vader of die Seun in die heilige Drie-eenheid is nie. Hy word so genoem omdat dit sy taak is om heiligheid in die harte en lewens van mense teweeg te bring.

Die Here Jesus het aan die vroeë dissipels beloof dat hulle gedoop sou word met die Heilige Gees en met vuur, en dat Hy hulle moreel sou reinig deur die kaf uit hulle lewens uit te wan (Luk. 3:17). Petrus het gesê dat die Here aan alle Christene die Heilige Gees gegee het om hulle harte deur die geloof te reinig (Hand. 15:9). Paulus bevestig in Rom. 15:16 dat die Heilige Gees ook die harte van Christene uit die heidendom sal heilig.

Die Heilige Gees skep heiligheid as ‘n toestand van die hart, en bekragtig die Christen ook om ‘n heilige karakter te hê en ‘n heilige lewe te lei. Die Here Jesus het in Handelinge 1:8 die instaatstellende krag van die Heilige Gees belowe. Paulus het die Efésiërs toegebid dat hulle “met krag versterk sal word deur sy Gees in die innerlike mens” (Ef. 3:16).

1. Die belofte van die Heilige Gees (Johannes 7:37-39)

As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! (v. 37). Wat ‘n aanbod is dit nie – en dit is ‘n wêreldwye aankondiging! Die woord “dors” druk ‘n diep verlange van die menslike gees uit. Die uitnodiging is aan enigeen wat wil. Die Een na wie toe mense moet kom, is Jesus Christus. Die opdrag is dat hulle die lewende water moet drink totdat hulle daarmee gevul is.

Hy wat in My glo (v. 38). Wie ook al in die geloof na Jesus Christus toe kom, sal vind dat sy siel met lewende water gevul sal word. Soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. Dit sal met ‘n oorvloed vrede, vreugde en liefde gepaard gaan, wat sal oorvloei na andere toe. “Strome” dui op die oorvloedige mate waarin die vrug van die Gees in só ‘n persoon se lewe sal voortspruit (Gal. 5:22-23).

Dit het Hy gesê van die Gees (v. 39). Deur sy persoonlike werking open die Heilige Gees in die harte van mense die strome van lewende waters wat dié sou ontvang wat in Hom glo. Slegs nadat Jesus verheerlik is – dit is nadat Hy gesterf, opgestaan, na die hemel opgevaar en die heerlikheid ontvang het wat syne is aan die regterhand van die Vader – het mense die inwonende teenwoordigheid en volheid van die Gees ontvang. Want die Heilige Gees was daar nog nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Van die begin van die wêreld af is sekere mates van die Heilige Gees aan mense gegee, maar die oorvloedige uitstorting van die Heilige Gees het eers ná die hemelvaart van Jesus plaasgevind.

2. Die Persoon van die Heilige Gees (Johannes 14:16-18)

En Ek sal die Vader bid (v. 16). Christus het die gedagtes van sy dissipels na die bron van alle seëninge gelei. Onthou dat God die Fontein van alle vertroosting en die Bron van alle krag is. Die mens se grootste behoefte is aan God, en Jesus Christus verklaar hierdie feit deur as die mens se verteenwoordiger in die teenwoordigheid van God te staan. Hy sal julle ‘n ander Trooster gee. Toe Jesus by sy dissipels was, was Hy hulle raadgewer, vriend en leidsman. As hulle leermeester het Hy hulle vooroordele en onkunde verdra. In tye van neerslagtigheid het Hy hulle getroos. Nou het Hy egter voorberei om hulle te verlaat, maar Hy het belowe om hulle nie alleen te laat nie. Hy het belowe om hulle ‘n ander Trooster te gee om by julle te bly tot in ewigheid. Hy sou hulle nie verlaat soos wat Jesus gedoen het, en weer teruggaan hemel toe nie. Sy sending strek oor die hele tydperk tussen die eerste en tweede koms van die Here Jesus, daarom is dit ook die bedeling van die Heilige Gees.

Die Gees van die waarheid (v. 17). Die Heilige Gees kan ook die Gees van die waarheid genoem word, want waarheid is ‘n essensiële eienskap van sy natuur. Sy basiese funksie is om die waarheid te openbaar, te bevestig en toe te pas (vgl. Joh. 16:13). Wat die wêreld nie kan ontvang nie. Die wêreld verteenwoordig diegene wat onder die heerskappy van goddelose beginsels leef. Die liefde vir boosheid diskwalifiseer mense daarvan om die waarheid te ontvang. Van die begin af was die wêreld nooit ‘n vriend of ‘n ontvanger van die Here se genade nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Die gelowiges ontvang egter God se genade deur die Heilige Gees, maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Terwyl die volheid hiervan nog toekomstig was, het die Here Jesus deur die gebruik van die teenwoordige én toekomstige tyd duidelik aangetoon dat die dissipels reeds ‘n mate van hierdie groot seën ontvang het. Hulle was beslis geredde manne. Hoe enigeen kan sê dat hulle in hierdie stadium ongered was, is totaal onverklaarbaar. Slegs weergebore mense soos die dissipels kan die Heilige Gees ontvang. Deur Christus te ontvang, het hulle hulself voorberei om die Heilige Gees te ontvang, en het Hom alreeds leer ken. Hy was reeds met hulle, en sou kort daarna in sy volheid in hulle kom woon. Hulle sou sy leiding duidelik ervaar, en die reinheid van sy teenwoordigheid sou die atmosfeer wees waarin die siele van die geheiligdes leef!

Ek sal julle nie as wese agterlaat nie (v. 18). Jesus sou sy dissipels nie as weeskinders in die wêreld agterlaat nie, daarom het Hy gesê: Ek kom weer na julle toe. Dit verwys beslis na ‘n koms wat nie liggaamlik is nie, maar geestelik. Christus het aan die apostels beloof: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20). Hierdie voortdurende teenwoordigheid val saam met sy voortdurende [fisiese] afwesigheid. Die “kom” in hierdie vers is dus nie die liggaamlike wederkoms van Jesus nie, maar ‘n geestelike koms. Net soos wat die Gees die Gees van God die Vader is, só is dit ook die Gees van God die Seun.

3. Die werk van die Heilige Gees (1 Korinthiërs 2:9-13; Hebreërs 10:12-16)

Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie (1 Kor. 2:9). Hierdie woorde is van toepassing op die huidige seëninge van die gelowiges, asook op die toekomstige seëninge in die hemel. Wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Dit is net diegene wat God waarlik liefhet, in wie se harte die liefde van God deur die Heilige Gees uitgestort is, vir wie hierdie wonderlike seëninge bedoel is.

Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar (v. 10). Met die hulp van die Heilige Gees begryp ons iets van die ongehoorde, groot seëninge wat nou én in die toekoms aan ons gegee word. Want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Die Heilige Gees het ‘n grondige kennis van die verborge raad en doel van God. Dit sluit sy bestuur van die heelal in, asook sy plan van verlossing vir die mens. Die apostels was só ten volle daarvan oortuig dat die verlossingsplan in die evangelie goddelik is, dat hulle met groot vrymoedigheid dié dinge verkondig het wat die wysheid en die begrip van mense ver te bowe gegaan het. Dit was die Gees van God alleen wat hierdie dinge as die attribute en werke van God aan hulle kon openbaar.

Want wie van die mense weet wat ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? (v. 11). Die basiese idee met hierdie stelling is dat geen mens ‘n ander een innerlik ken nie. Sy gedagtes, ingesteldhede en voornemens word net deur homself, of deur sy eie gees, geken. Indien hy verkies om dit nie aan ander te openbaar nie, kan hulle dit nie vasstel nie. So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Indien die beginsel van die mens se eksklusiewe, innerlike selfkennis waar is, hoeveel te meer is dit nie van God waar nie! As die mens se dieper geestelike natuur en geheime alleen deur ‘n vrywillige selfopenbaring geken kan word, dan kan God se geestelike geheime ook net in ‘n goddelike selfopenbaring deur sy Gees geken word.

Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is (v. 12). Die onweergebore, natuurlike mens is glad nie in staat om geestelike seëninge waar te neem nie. ‘n Mens moet eers weergebore word, want hierdie seëninge word geestelik beoordeel (vgl. v. 14). Die ware gelowiges in Christus, wat die getuienis van die vervulling met die Heilige Gees het, is in staat om die dieper dinge van God te verstaan. Ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Net soos wat die innerlike gedagtes van ‘n persoon onbekend is totdat hy dit openbaar maak, is dit ook met die geestelike dinge van God. Vir hierdie rede het God sy Gees gegee aan diegene wat Hom soek. Wanneer Hy kom, onderrig en lei Hy mense in die hele waarheid.

Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer (v. 13). Paulus bedoel hiermee dat die rol wat die Heilige Gees in die bekendmaking van God vervul, tot op die vlak van die woorde strek wat hy [Paulus] uitspreek. Sy woorde is dus nie op menslike wysheid gebaseer nie. Paulus se briewe dra inderdaad die getuienis van die Heilige Gees. Ná meer as 19 eeue is hulle nog steeds vol van die krag van God se Gees, met dinamiese oplossings vir vandag se probleme, soos wat dit was toe Paulus dit vir die behoeftes van die gelowiges in sy tyd geskryf het. Die beste verklaring vir die stelling dat ons geestelike dinge met geestelike [moet] vergelyk is dat Paulus deur die inspirasie van die Heilige Gees in staat was om geestelike idees met mekaar te verenig, of om die geopenbaarde wysheid van God in woorde uit te druk wat die Heilige Gees op sy hart gelê het.

Maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God (Heb. 10:12). In teenstelling met die ondoeltreffendheid van die Levitiese offers is hier ‘n voorstelling van Christus wat net een offer gebring het en toe op die troon gaan sit het. Die gevolg hiervan was die voorsiening van ewige geestelike volmaaktheid vir dié wat in Hom glo. Sy volbragte en finale versoeningswerk was genoegsame voorsiening vir die vergifnis en reiniging van die gelowige uit sy oorspronklike toestand van sonde, en ook van die geestelike en morele besoedeling van sy lewe van aktiewe sonde.

Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word (v. 14). In die vorige verse is die bediening van die Levitiese priester met dié van Christus, die Hoëpriester, gekontrasteer. Die kontras werp lig op die onvermoë van die bloed van offerdiere om sonde weg te neem (v. 4), en aan die ander kant beklemtoon dit die ewige en volmaakte offer van Christus. Wesley sê oor hierdie vers: “Christus het alles gedoen wat nodig was om ons volle versoening met God te bewerk.” Diegene wat hulleself aan die genadige reël van die hoëpriesterlike Koning onderwerp, sal in Hom alles vind wat hulle vir hul vervolmaking nodig het.

En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis (v. 15). Hierdie vers bied verdere getuienis aan dat die offer van die Seun die finale stap in die voorsiening van die mens se verlossing is. Die getuienis van die Vader en die Seun is reeds gegee, en hier is nou die verdere getuienis van die Heilige Gees.

Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe (v. 16). Dit verwys na die nuwe verbond, of  die evangelie. Die argument is dat die ou verbond verby is omdat dit net ‘n skaduwee van die nuwe verbond was. Jesus het die nuwe verbond gebring, en ‘n nuwe verhouding met God.

Kommentaar oor die Sleutelteks

God het julle van die begin af verkies tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid (2 Thess. 2:13).

“Jy is verkies!” Dit is die welkome woorde wat elke politieke kandidaat hoop om te hoor. Daar is egter noodwendig ook baie verloorders. In verband met redding hoef dit nie so te wees nie. Elke mens op aarde is deur God verkies vir redding. Deur na te laat om hierop te reageer, is die enigste rede waarom sommige verlore gaan. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Hierdie keuse is nie net van die begin van die evangelie of van die begin van die mens se geskiedenis af gemaak nie, maar van ewig af. Ons moet natuurlik die feit aanvaar dat elke mens ‘n vrye wil het en vir homself moet kies – maar dit is God se keuse dat almal gered moet word. Niemand is vir die verdoemenis gebore nie, want God het almal uitverkies om gered te word. Dit is slegs deur teen hierdie keuse te rebelleer dat mense verlore gaan.

Die algemene gebruik van die term “saligheid” [of “verlossing”] is dat dit na die inisiële ervarings van regverdigmaking en heiligmaking verwys. Dikwels, soos in begenoemde teks, verwys dit egter na die finale saligheid in heerlikheid. Dit is slegs wanneer die Christene na die hemel weggevoer word [of by hulle dood] dat hulle saligheid finaal sal wees. Op aarde is hulle nog in ‘n voorlopige toestand.

Nog voordat Adam geskape is, het God al sy verlossingsplan gemaak. Deur sy volkome voorkennis het God met die sondeval van Adam reeds ‘n volmaakte plan vir die mens se volle verlossing gehad. Christus se menslike bediening, sy kruisiging, versoening, opstanding, hemelvaart, die inwoning van God die Heilige Gees in die harte van gelowiges, en Christus se uiteindelike heerlikheid, is alles in hierdie plan ingesluit.

Al hierdie dinge beteken dat die sondige hart eers nuutgemaak en gereinig moet word. Tydens bekering word sondes bely, afgelê en aan die versoeningsbloed oorgegee.

Heiligmaking is ‘n besliste tweede genadewerk, maar in ‘n sekere sin het dit reeds by bekering begin, want die een met ‘n berouvolle hart sonder homself van die boosheid af. Die gelowige wat volkome heilig gemaak wil word, moet die wortel-oorsaak van sonde [die sondige natuur met al sy neigings] ook bely en aflê sodat dit deur die bloed van Christus weggewas kan word. Met jou hart só gereinig, maak die Heilige Gees woning in jou.

Saligheid… deur geloof in die waarheid. Ons sien hier dat geloof in die waarheid op heiligmaking deur die Gees volg. Hoe kan dit wees? Moet ek dan nie deur geloof geheilig word nie? Natuurlik moet jy geloof vir heiligmaking hê, want dit is die enigste manier waarop jy dit kan kry. Ons finale verkiesing in die hemel vereis egter nie alleen dat ons deur die Gees geheilig sal word nie, maar dat ons ook daarna ‘n lewe van geloof in die hele waarheid van God sal leef. Deur volkome heiligmaking word al die miswolke van Satan se twyfel weggebrand sodat ons gereed kan wees om waarlik ‘n lewe van geloof in God te lei.

Leerstellige Bespreking

‘n Mens kan nie die werk van die Heilige Gees in jou lewe verstaan voordat jy ‘n duidelike begrip het van hoe elk van die drie Persone in die Drie-eenheid by jou verlossing betrokke is nie. Die verlossingsplan het sy oorsprong by die Vader, die Seun het dit deur sy soendood en die besprinkeling deur sy bloed moontlik gemaak, terwyl die Heilige Gees dit voorwaardelik vir die reiniging van die siel toepas. As die Bybel van die Seun praat wat ons heilig, is dit altyd in ‘n ander sin as die Heilige Gees se werk van reiniging. Wanneer na Christus as ons heiligmaking verwys word, word nie bedoel dat dit Hy is wat in ons hart inkom om die reinigingswerk te doen nie, maar dat Hy die middel daarvoor voorsien het, sy gestorte bloed, asook die Heilige Gees om die werk te doen. Die Seun se werk is ekstern en dié van die Gees intern.

Indien die Parakleet [die Heilige Gees] gekom het om van Homself te getuig en ‘n werk te doen wat onafhanklik van Christus is, sou sy sending nie die herinnering aan Christus bewaar het nie, maar dit eerder oorskadu het. Hy getuig egter van Jesus en maak ons van Hóm bewus.

Volgens Handelinge 15:8-9 is die Heilige Gees die een wat ons harte reinig. Dit is in werklikheid die tweede reiniging deur die Gees, omdat Hy ook ons harte reinig van die besoedeling wat deur sonde veroorsaak is. 1 Johannes 1:9 maak dit duidelik dat daar ‘n belydenis van sonde gedoen moet word voordat die reiniging daarvan plaasvind. Die tweede reiniging is van die oorgeërfde besoedeling van ons persoonlikheid, en nie van die gevolge van die sondes wat ons gedoen het nie. Hierdie tweede reiniging stel ‘n persoon in staat om met suiwer motiewe te leef, en ook om liefde teenoor God én teenoor ander mense te betoon. Die liefde teenoor God is ‘n meer spontane uiting omdat Hy altyd die beste belange van die mensdom bevorder. Liefde teenoor ons medemens is ‘n groot uitdaging. Terwyl die mensdom dikwels daarop ingestel is om kwaad teenoor andere te doen, verhinder die Heilige Gees ons daarvan om verkeerde houdings te openbaar, selfs ook teenoor ons bitterste vyande.

Ons kan net ‘n heilige lewe lei as die Heilige Gees in sy volheid in ons woon en die beheer oor ons lewe in sy hande is. Ons besef dat ons nie aan onsself behoort nie en ten volle van Hom afhanklik is om ons te lei en krag te gee om rein te lewe en vir die Here te werk. Daar is verskillende maniere waarop Hy ons lei. Hy kan ons deur ons gewete lei. Hy kan ons deur die Woord van God lei. Hy kan ons deur die raad van heilige mense lei. Hy kan ons indirek deur oop deure van geleenthede lei, en ook deur erkenning in die kerk. Ons hoef nooit die leiding van die Heilige Gees te vrees nie!

Dit is baie duidelik dat daar geen werk van genade in ons lewe is wat nie deur die Heilige Gees gedoen is nie. Dit is net so duidelik dat ons uit onsself nie die oorwinnende, skynende, rein Christene kan wees wat die Here vir ons beplan het, as ons nie die volheid van God in ons het nie. Dit is sekerlik nie God se wil dat ons as wese agtergelaat sou word nie. Omdat dit die geval is, sal ons die ouerlike sorg van die Heilige Gees deur ons hele lewe hê. Indien ons “volkome” heilig gemaak moet word, soos in 1 Thessalonicense 5:23 genoem word, moet ons aanvaar dat aangesien die Here Jesus vir ‘n volkome verlossing voorsiening gemaak het, die Heilige Gees dit ook in ons lewens effektief sal maak!

Dit is nie wat óns doen nie, maar wat die Heilige Gees doen wat ons red. Ons word slegs deur genade en slegs deur die geloof gered. Ons moet egter onthou dat Jakobus sê dat die volmaakte persoon sy geloof deur sy werke sal toon. Die werke red nie die mens nie, maar die geredde persoon sal werk! Die dinamiek van ‘n Geesvervulde lewe sal ‘n groot invloed op ‘n persoon se morele lewe, sy gesinslewe én sy gemeenskapslewe uitoefen.

Vrae en Antwoorde

Die bespreking van die volgende vrae sal help om verdere insigte in die rol van die Heilige Gees in die lewe van die gelowiges te verkry.

1. Wat is sommige van die name van die Heilige Gees?

a.   Die Gees van die waarheid (Joh. 14:17).

b.   Die Trooster (Joh. 14:16).

c.   Die Gees van God (1 Joh. 4:2).

d.   Die Heilige Gees (Heb. 10:15).

e.   Die Gees van genade (Heb. 10:29).

f.     Die Gees van die Here (Hand. 5:9).

g.   Die Gees van die lewe (Rom. 8:2).

h.   Die Gees van die lewende God (2 Kor. 3:3).

i.     Die Gees van Jesus Christus (Fil. 1:19).

j.     Die Gees van Christus (1 Pet. 1:11).

k.   Die ewige Gees (Heb. 9:14).

l.     Die Heilige Gees van die belofte (Ef. 1:13).

m. Die Gees van aanneming (Rom. 8:15).

2. Wie is die Heilige Gees?

Die derde persoon van die Drie-eenheid van God (1 Joh. 5:7).

3. Wat doen die Heilige Gees?

Hy:

a.   gee toegang tot God die Vader (Ef. 2:18);

b.   gee geestelike geboorte (Gal. 4:29);

c.   gee oorwinningskrag aan ons om reg te kan lewe (1 Joh. 4:4);

d.   openbaar geestelike waarhede en ondersoek die diep dinge van God (1 Kor. 2:10);

e.   help ons om andere lief te hê (1 Pet. 1:22);

f.     leer die gelowiges (1 Kor. 2:13; Joh. 14:26);

g.   oortuig sondaars van sonde (Joh. 16:8);

h.   oortuig mense van dade van geregtigheid wat hulle moet doen (Joh. 16:8);

i.     oortuig mense van die komende oordeel (Joh. 16:8);

j.     lei in die hele waarheid (Joh. 16:13);

k.   lei die gelowiges (Rom. 8:14);

l.     verheerlik Jesus Christus (Joh. 16:14);

m. is geestelike lewe in die gelowiges (Rom. 8:10);

n.   stel Christus in staat om in die gelowiges te woon (1 Joh. 3:24; 4:13);

o.   getuig dat die gelowiges kinders van God is (Rom. 8:16);

p.   help in tye van gebed om vir ons in te tree (Rom. 8:26);

q.   vertroos (Joh. 14:16, 18);

r.     roep mense na die diens van God (Hand. 13:2);

s.   verseël die gelowiges (Ef. 4:30);

t.     gee ‘n voorsmaak van die wonderlike dinge wat kom (2 Kor. 1:22);

u.   salf (1 Joh. 2:20);

v.    praat (1 Tim. 4:1);

w.   gee inspirasie (2 Tim. 3:16; 2 Pet. 1:20-21);

x.   help die gelowiges om in eenheid te leef (Ef. 4:3);

y.   vervul gelowiges (Ef. 5:18; Hand. 2:4); en

z.  gee krag vir diens (Hand. 1:8).

4. Wanneer het die Heilige Gees in hierdie bedeling die eerste keer na die mensdom gekom?

Hy het op Pinksterdag ná die hemelvaart van die Here Jesus gekom toe die 120 eendragtig in die bovertrek bymekaar was (Hand. 1:15 – 2:4).

5. Wie mag die Heilige Gees in sy volheid hê?

Verlossing word deur die werk van die Heilige Gees ontvang. Om die volheid van die Gees te hê moet ‘n mens gered en dan geheilig word en daarna aanhou om in die Gees te wandel.

6. Hoe ontvang ‘n mens die Heilige Gees?

Deur gebed, in die geloof, en deur aan God se voorwaardes te voldoen.

7. Hoe kan ek weet dat die Gees my lei om sekere dinge te doen?

Volgens 1 Joh. 4:3 moet ons die geeste toets om vas te stel of hulle uit God is. Ons kan vir seker weet dat God se Gees ons nooit enige leiding sal gee wat in stryd met die Bybel is nie. Die Heilige Gees verhoog vir Jesus Christus en sal Hom nooit op die agtergrond stoot of jou beïnvloed om Hom as die Seun van God wat in die vlees gekom het, te verloën nie. Bid baie wanneer jy ‘n besluit moet neem, en soek ook leiding in die Bybel.

8. Die Heilige Gees is volgens Efésiërs 2:18 ons skakel met God die Vader. Verduidelik.

Die Bybel leer dat die mens teen die Vader sondig. Jesus Christus het Homself geoffer en sy bloed gestort om die mens van sonde te verlos. Die Heilige Gees oorbrug die gaping tussen die sondige mens en die Vader. Hy oortuig die mens van sonde, en as hy hom bekeer, tree Hy in Jesus se Naam ook vir hom in.

Kan hierdie skakel verbreek word? Ja. Volgens Matt. 12:31-32 is laster teen die Heilige Gees die enigste sonde wat die mens nie vergewe sal word nie. Wat dit alles insluit, is nie seker nie. Hierdie sonde is nogtans erg genoeg om te veroorsaak dat die Heilige Gees die betrokke persoon permanent verlaat. Sy ewige verdoemenis is dan verseël omdat sy enigste skakel met God verbreek is.

9. Wat is ons plig teenoor die Heilige Gees?

a.   Word met die Gees vervul (Ef. 5:18).

b.   Wees gehoorsaam aan die waarheid deur die Gees (1 Pet. 1:22).

c.   Wandel deur die Gees (Gal. 5:16).

d.   Wandel in die lig van God (1 Joh. 1:7).

e.   Blus die Gees nie uit nie (1 Thess. 5:19).

f.     Bedroef nie die Heilige Gees nie (Ef. 4:30).

g.   Moenie die Gees van genade smaad nie (Heb. 10:29).

Die Heilige Gees is beslis ‘n baie belangrike Persoon in die hart en lewe van iemand wat ‘n heilige lewe lei. Hoewel ons nie in hierdie lewe die Gees en sy werk ten volle sal verstaan nie, kan ons nogtans die voordele van ‘n Geesvervulde lewe geniet!

 

6. Hoe om Geheilig te Word

Sleutelteks

"En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak" (1 Thess. 5:23).

Sentrale waarheid

Oortuiging van behoefte is ‘n vereiste in jou persoonlike soektog na heiligheid.

Les

Psalm 51:4-9

4 Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.

5 Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.

6 Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.

7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

8 Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.

9 Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.

Romeine 12:1-2

1 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens.

2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Hebreërs 9:11-14

11 Maar Christus, wat opgetree het as ‘n Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie,

12 ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.

13 Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees,

14 hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Daar is verskillende tipes en simbole in die Bybel wat die ondervinding van heiligmaking illustreer. Een van hierdie tipes is die verlossing van Israel uit die Egiptiese slawerny en hulle reis na Kanaän. Die harde slawerny in Egipte is tipies van die lewe van die sondaar. Jesus het gesê: “Elkeen wat die sonde doen, is ‘n dienskneg van die sonde” (Joh. 8:34). Hy het egter gekom om die bande van sonde te verbreek: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:36). God het die Rooi See geopen vir die bevryding van diegene wat deur Farao agtervolg is. Dit is tipies van Christus se verlossing van die berouvolle sondaar.

Die afstand van Egipte na Kanaän is ‘n heenwysing na die tyd tussen regverdigmaking deur die geloof en heiligmaking deur die geloof. Die kort tyd na Kanaän deur Kades dui op God se begeerte dat die gelowige gou tot die ervaring van heiligheid sal toetree. Die lang vertraging gedurende die volk se swerftogte deur die woestyn is tipies van die onnodige lang vertraging wat té veel mense tussen hulle bekering en heiligmaking ervaar.

Die deurtog deur die Jordaan en die ingang in Kanaän is tipies van die gelowige se toetrede tot die Kanaän van volmaakte liefde. Die deurtog na Kanaän is, soos die deurtog deur die Rooi See, ‘n daad van geloof. Die priesters moes vorentoe beweeg en hulle voete in die water sit voordat die Jordaanrivier geopen en die volk van God in staat gestel is om na die Beloofde Land deur te gaan.

Die melk en heuning, en die druiwe van Eskol (Num. 13:23-24) was ‘n tipologiese heenwysing na die goeie dinge wat die Here berei het vir dié wat geestelik vordering maak om na die volmaaktheid voort te gaan (Heb. 6:1). Dit is “die volle seën van die evangelie van Christus” (Rom. 15:29). Die toetrede tot hierdie ervaring is deur gehoorsaamheid, toewyding en geloof.

1. Die erkenning van jou behoefte (Psalm 51:4-9)

Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde (v. 4). Psalm 51 is ‘n gebed – eerstens vir vergifnis met ‘n nederige belydenis van die sondige dade wat uit die bitter wortel van ‘n sondige natuur voortspruit, en tweedens vir hernuwing en heiligmaking deur die Heilige Gees. Hierdie psalm is in sy geheel aan God gerig. Die berouvolle siel het op grond van sy belydenis om vergifnis uitgeroep. Die intensiteit van sy oortuiging het verdiep terwyl hy die oorsprong van sy sondige daad in die besoedeling van sy natuur ontdek het. Dit het na ‘n ernstiger roep tot die Here aanleiding gegee. Die eerste smeekgebed was vir vergifnis en die tweede vir reinheid – vir hartsreiniging en die vernuwing van sy gees. Hoewel daar nie ‘n duidelike onderskeid tussen sy sondige dade en sy sondige natuur getref word, tussen die behoefte aan vergifnis en die behoefte aan reiniging nie, is daar ‘n duidelike vordering in sy gedagtegang van die versoek om vergifnis tot die versoek vir ‘n rein hart, asook die belofte om die Here te prys en sy lof te verkondig.

Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my (v. 5). Hier is die duidelike belydenis van ‘n behoefte – die erkenning van ‘n man wat nie die werklikheid van sy eie sonde kon ontken nie. Dawid het ‘n diepe oortuiging van sy veroorlowing van sonde gehad, van sy leuens, owerspel en uiteindelik moord. Hy het die worteloorsaak van hierdie oortredinge raakgesien en vir die Here gevra om hom te reinig. Hy het nie sy sondes toegesmeer of geregverdig nie, maar die diepte en omvang daarvan ten volle erken.

Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë (v. 6). Alhoewel ander mense in die proses grootliks benadeel is, word alle sonde wesenlik as oortredings teen God gesien, en Hý sal dit straf. Die tweede deel van hierdie vers kan volgens Moffatt vertaal word as: Ja, U is regverdig in u aanklag, geregverdig in u uitspraak.

Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang (v. 7). Die oortuiging van sy sonde het verdiep sodat Dawid nie alleen erken het wat hy gedoen het nie, maar ook sy sondige natuur erken het: hy is in ongeregtigheid gebore en in sonde ontvang. Sondige neigings is deel van die gevalle mensdom se natuur.

Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste (v. 8). Hierdie stelling kom uit die hart van Dawid, terwyl hy God ernstig in belydenis en bekering soek. Hy het geweet dat God waarheid en reinheid in alle mense se harte soek, en erken dat sy eie hart vals was.

Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees (v. 9). Hierdie oproep het betrekking op die seremoniële reiniging van mense wat van melaatsheid genees is (Lev. 14:1-9). Die besef van Dawid se geweldige onreinheid het hom na ‘n baie sterk reinigingsmiddel laat vra, soos dié wat ‘n melaatse nodig gehad het. Om van melaatsheid en die gevolglike uitgeworpenheid gereinig te word, was ‘n wonderlike transformasie. Om egter van sonde gereinig te word, is nog veel beter! Was my, dat ek witter kan wees as sneeu. Dit druk die honger en dors van Dawid se siel uit om van die besoedeling van sonde bevry te word, asook sy volle afhanklikheid van God om die werk te doen. O, as al die nasate van Adam maar Dawid se voorbeeld wou volg om God vir die vergifnis en reiniging van hulle sonde te vertrou!

2. Die toewyding van ‘n lewe (Romeine 12:1-2)

Ek vermaan julle dan (v. 1). As die groot afleiding van die belangrike leerstellings van regverdigmaking en heiligmaking wat in die vorige elf hoofstukke van Romeine geleer is, vermaan Paulus die broeders om hulleself in die geloof aan God toe te wy.” …by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. Die apostel begin met die idee van ‘n volkome toewyding. Dit behels die opoffering van jouself aan God in liefde. Dit is die basiese morele beginsel van die Christen in die Nuwe Testament. Hierdie toewyding is absoluut, deurdat dit ook die liggaam insluit. Hierdeur word die toewyding van die gees en siel as ‘n vooronderstelling aanvaar. Dit is alleen in hierdie absolute volkomenheid van toewyding aan God dat die betekenis van die begrip ‘toewyding’ verstaan moet word. Die Here verwag van elkeen van ons om alles te gee.

En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is (v. 2). Dit is ‘n wonderlike ideaal in die Christelike etiek om só te kan lewe. Dit is nog wonderliker dat genade hierdie ideaal binne die bereik van diegene gestel het wat hulleself as lewende offers aan God bied. Dit is die patroon en die dinamiek van die Christelike etiek. Wat totaal onmoontlik was vir dié mense wat slegs ‘n stel reëls het om na te streef, is vir ons moontlik deur die herskeppende krag van die Heilige Gees.

3. Die reiniging van die hart (Hebreërs 9:11-14)

Maar Christus, wat opgetree het as ‘n Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring (v. 11-12). Die doel met godsdiens is om die mens met ewige realiteite in verbinding te stel. Dit was wat die diens van die tabernakel veronderstel was om te doen, maar die aardse tabernakel en sy diens was maar flou afbeeldings van die werklike Tabernakel en sy diens. Slegs die werklike Tabernakel en sy diens kan toegang tot die werklikheid gee. Daar kan geen godsdiens sonder ‘n offer wees nie. Reinheid is iets wat kosbaar is, en toegang tot God vereis reinheid; daarom moet die sonde van die mens versoen word, en moet hy van sy onreinhede gereinig word. Voordat dit gebeur, kan daar geen toegang vir die mens tot God wees nie. Met hierdie feite in gedagte, wys die skrywer van die brief aan die Hebreërs dat die Here Jesus die enigste Hoëpriester is wat ‘n offer kon bring om die weg tot God te open, en daardie offer is Hyself.

Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus… (v. 13-14). Hier verwys die skrywer na die offer wat die Jode onder die ou verbond met God gebring het. Nadat hy die aandag gevestig het op die feit dat hierdie offers ‘n skaduwee, of beeld, van die ware offer is, gaan hy voort om te sê dat die offer wat Jesus gebring het, veel groter en meer doeltreffend is. …wat Homself deur die ewige Gees… Verwysing word hier na die Heilige Gees gemaak wat deel van die Drie-eenheid is. Christus het die Heilige Gees as deel van sy persoonlikheid gehad. Daar was dus nie ‘n wetlike meganisme aan die werk in Jesus se offer nie, maar die Gees van God. Sy dood aan die kruis was nie ‘n voorgeskrewe ritueel wat Hy moes uitvoer nie. Dit is gedoen omdat die wil van Jesus ter wille van die mens aan die wil van God gehoorsaam was. [Hy het Homself] aan God sonder smet geoffer. Deur sy sondelose lewe en offerdood het Christus die Allerheiligste betree. Hierdie voorsiening is gemaak om julle gewete [te] reinig van dooie werke om die lewende God te dien. Die “gewete” is deel van die siel van die mens wat deur sonde besoedel is. Die reiniging daarvan vind plaas wanneer ‘n weergebore persoon die ondervinding van volkome heiligmaking deelagtig word, wat die reiniging van sy hart in ‘n tweede genadewerk is.

Kommentaar oor die Sleutelteks

En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak (1 Thess. 5:23).

Dit is ‘n wonderlike ervaring wanneer die heilige Christus met sy wet van geregtigheid aan die deur van die menslike siel klop, en die heerser, die menslike wil, die sleutels bring en die deur oopsluit vir Hom wat magtig is om te red. Die swart banier van sonde word afgetrek en die kruis opgerig. Die persoon is onder ‘n nuwe regering – daar is nuwe wette, ‘n nuwe lewe, en nuwe vreugdes. Daar is egter nog steeds ‘n rebel in sy lewe wat hom in ‘n vesting ingrawe en weerstand teen die Redder bied. Die persoon is lojaal, maar niks is veilig solank as wat die rebel nie onttroon is nie. Hierdie vesting van die oue mens moet ingeneem en vernietig word, en die hele hart en lewe van die persoon aan die Oorwinnaar, Jesus Christus, oorgegee word (P.F. Bresee).

Toewyding begin onmiddellik in die nuwe gelowige se lewe. Hierdie toewyding moet volkome wees volgens die lig wat hy het. Wanneer hy na volkome heiligmaking soek, sal die Heilige Gees aan hom verdere terreine vir dieper toewyding in sy lewe wys, waarvan hy vantevore nog nie bewus was nie.

Vanaf die dag van sy bekering moet die gelowige tree vir tree in die lig wandel. Sy vooruitgang sal hom na hoër geestelike vlakke van ontwikkeling lei. Daardeur heilig hy homself in die diens van God. Hy het vrede in sy hart en alles gaan goed. Dan kom daar egter ‘n dag wanneer hy van vleeslike neigings in hom bewus word. Dit verhinder sy geestelike groei, en hy begin ernstig te bid om van die natuur [of wet] van sonde in hom verlos te word. Hierdie geseënde verlossing kom wanneer hy in die geloof “die belofte van die Vader” aanneem en vir selfsugtige ambisies sterf – “gekruisig met Christus.”

Hoe wonderlik is dit nie wanneer die bloed van Christus die hart reinig en die Heilige Gees dit met Homself vervul nie! Die getuienis van die Heilige Gees bevestig ook die werklikheid van volkome heiligmaking in ons harte.

Om volkome heilig te wees, sluit die heiliging van die hele mens in – gees, siel en liggaam:

1. Die gees. Die onweergebore mens is geestelik dood. Wanneer hy weergebore word, plaas die lewendmakende Gees van God ‘n nuwe lewe in hom, sodat hy daarna iets het wat hy nie met sy eerste geboorte gehad het nie – geestelike lewe. In volkome heiligmaking word sy lewende gees deur God se Gees van heiligheid vervul en geïnspireer.

2. Die siel. Met bekering gaan die siel oor na God, al sy vermoëns word aan die Heilige Gees dienstig en hy word vir die eer van die Here gebruik. In volkome heiligmaking word die siel geheel en al van sonde bevry en met God gevul.

3. Die liggaam. Ware heiligheid sluit ook die liggaam in. Die liggaam self het nie ‘n morele ingesteldheid nie, en is tot sonde én heiligheid in staat. As deel van ons totale wese, in samehang met die gees en die siel, kan die liggaam vir sondige of heilige gebruike aangewend word. In ‘n Christen se lewe is sy liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees, en die tempel van God moet heilig wees. Om volkome heilig te wees, moet ons ook van alle besoedeling van die vlees gereinig word. Die sterflike liggaam wat deur die inwoning van die Heilige Gees lewend gemaak is, moet as ‘n heilige en aan God welgevallige offer in sy diens gestel word. In die wyse waarop ons eet, drink, aantrek, wandel, kyk, praat en hoor moet God ook deur ons heiligmaking verheerlik word (Edward. F. Walker).

Leerstellige Bespreking

Enige werk van genade word nie deur ons gedoen nie, maar deur die Here (Ef. 2:8-9).

Daar is ses progressiewe gebeurtenisse in ons geestelike lewe wat ons na die toestand van volkome heiligmaking lei. Hulle is:

1. Ons moet van die werklikheid van vleeslikheid bewus wees.

Daar is twee uitstaande voorbeelde hiervan in die Ou Testament. Die eerste is dié van Jesaja, wat die openbaring van sy behoefte in die sterfjaar van koning Ussia gedoen het (Jes. 6:1). In daardie jaar het hy die Here in sy heerlikheid gesien en ook van sy eie vleeslike toestand bewus geword:

"Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die Here van die leërskare, gesien!" (Jes. 6:5)

In die volgende twee verse vind ‘n reiniging plaas waarin sy ongeregtigheid weggeneem en sy sonde versoen is. Dit is duidelik dat Jesaja voor hierdie ondervinding ‘n verhouding met God gehad het, en dat hierdie ‘n verdere ondervinding was wat hom vir die diens van die Here gereed gemaak het (Jes. 6:8). Dit dui beslis op ons ondervinding van volkome heiligmaking. Dit is baie moontlik dat Jesaja deur die geloof ‘n toekomsblik op die kruis gehad het, en die voordele wat dit vandag vir ons bring.

Die tweede voorbeeld is dié van Dawid, wat sy sondes in Psalm 51:6 bely het. Daarna sê hy dat hy met ‘n sondige natuur gebore is (51:7): “In ongeregtigheid is ek gebore.” Hy het verder in hierdie psalm die begeerte uitgespreek dat sy ongeregtighede uitgewis en dat daar in sy binneste ‘n rein hart geskep moes word.

Baie voorbeelde kan uit die Nuwe Testament gegee word. Die een is dié van die dissipels. Hulle het vir tien dae lank voor Pinksterdag hulleself verootmoedig en gebid, en was beslis van hul behoefte aan vervulling met die Heilige Gees bewus. Hulle behoefte is vervul! Die gelowiges in Éfese is deur die Here “lewend gemaak” (2:1). In die volgende hoofstuk bid Paulus dat hulle met “al die volheid van God” vervul sou word (3:19). Daardie gebed sou nie beantwoord word as hulle nie hulle behoefte aan ‘n tweede genadewerk besef het nie.

2. Die besef van die moontlikheid van ons persoonlike verlossing van vleeslikheid is ‘n vereiste.

Geen werk van genade kom na enigeen wat nie daarna “honger en dors” nie.

3. Ons moet ons van ons vleeslikheid bekeer.

Bekering impliseer dat nadat ek my behoefte aan volkome heiligmaking besef het, ek my voor God sal verootmoedig en uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom. 7:24). Miskien is dit die gebed wat deur Romeine 6:6 beantwoord kan word: “Aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van hierdie sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.”

4. Ons moet op die Heilige Gees vertrou om ons van die vleeslike natuur te verlos.

Romeine 15:16 beskryf hierdie ondervinding as “geheilig deur die Heilige Gees.” 1 Petrus 1:2 sê ons is “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees.” Romeine 12:1 beklemtoon die feit dat ‘n deeglike toewyding ‘n voorvereiste is om volkome heiligmaking te ontvang. Die dood van die vleeslike self is die gevolg van hierdie toewyding.

5. Ons moet geloof in God se Woord hê wanneer die vereistes wat die Heilige Gees deur sy oortuigingswerk stel, nagekom is.

Dit sal niks help om na ander mense te luister wat sê dat ons net die seën “in die geloof” moet aanvaar, terwyl daar in ons binneste nog ‘n bewustelike onrustigheid en twyfel is of ons ten volle aan die Heilige Gees gehoorsaam is nie. Was jou belydenis volkome en het jy volledig met die ou, sondige natuur gebreek? Die Here sal óf hierdie werk vir jou doen, óf jou oortuig van dié dinge wat nog tussen julle staan. Hy ken jou hart. Ons lees in Handelinge 15:8: “En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk.”

6. Daar vind ‘n openbaring aan ons plaas van die afgehandelde werk.

Jy sal weet wanneer die werk van volkome heiligmaking gedoen is. Ek glo dat Romeine 8:16 nét soveel op die tweede genadewerk as op die eerste betrekking het. Die Heilige Gees sal saam met jou gees getuig dat jou saak met God in alle opsigte reg is. (Tot sover die ses stappe).

In Paulus se gebed aan die Efésiërs word die basiese aspekte van die ondervinding van volkome heiligmaking aangedui: “Dat Hy aan julle mag gee… om met krag versterk te word [die kruisiging word deur die krag van God aan die wagtende siel bedien] deur sy Gees [ons het nie krag om onsself te heilig nie; die Heilige Gees doen die werk] in die innerlike mens [sondes is uiterlik, maar sonde is ‘n innerlike hartstoestand waarmee daar gehandel moet word]” (Ef. 3:16). Die heerlike gevolge van hierdie innerlike werk van hartsreiniging word in die volgende drie verse bespreek (Ef. 3:17-19).

Uit Efésiërs 3:16 is dit duidelik dat volkome heiligmaking die gevolg van ‘n aandoening met krag uit die hoogte is, wat die werk van die Heilige Gees in die innerlike mens is.

Die kern van die saak van heiligmaking is dat ons in die lig van ‘n ondervinding van wedergeboorte moet wandel, totdat die Heilige Gees ons van die besoedeling van die hart oortuig en ons duidelik na die volgende ondervinding lei. Die tydsduur tussen die twee ondervindings mag verskil, want dit hang af van hoe die Gees met elke persoon werk om sy hart vir dié stap voor te berei. Dit is waarom dit nie wys is om na ‘n ander persoon se getuienis te luister, en dan die manier waarop hy die ervaring ontvang het, in ons lewe na te boots nie. Ons persoonlikhede is so uniek soos ons vingerafdrukke, en die Here weet hoe om elkeen van ons tot by hierdie stap te lei. Ons moet egter die algemene beginsels ken wat na hierdie ondervinding in ons lei, en nie die oortuigingswerk van die Heilige Gees teëstaan nie.

Vrae en Antwoorde

Die volgende vrae en antwoorde het betrekking op die onderwerp oor hoe ‘n mens geheilig word:

1. Wat is sommige van die voorvereistes vir volkome heiligmaking?

‘n Persoon moet eers gered word voordat hy geheilig kan word. Die Heilige Gees sal in sy heiligmakende krag slegs die harte van gelowiges vervul – nie dié van sondaars nie (Joh. 14:16-17). Baie van die mense wat na heiligmaking soek, is nog nie gered nie en moet eers na redding soek.

‘n Persoon moet van sy behoefte aan volkome heiligmaking oortuig wees. Psalm 51:4-9 verwys hierna. 1 Thessalonicense 4:3 sê vir ons dat heiligmaking God se wil is. Wanneer die Here ‘n persoon van sy behoefte aan heiligmaking oortuig, moet hy dit soek totdat hy dit kry. As hy dit nie doen nie, dan weerstaan hy God se wil vir sy lewe, en dit is ‘n sonde van ongehoorsaamheid. Só ‘n persoon val uiteindelik terug.

Ons moet die begeerte hê om geheilig te word. Mattheus 5:6 sê dat diegene wat honger en dors na die geregtigheid, versadig sal word.

2. Kan ‘n persoon maar aanhou om te sondig nadat hy gered is, terwyl hy nog wag om geheilig te word en dan eers met sonde klaar te kry?

Sekerlik nie! Die Bybel sê vir ons: “As iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor. 5:17). Dit beteken nie dat alle jong bekeerlinge al die lig sal hê wat ouer Christene het nie. Oor sekere sake mag hulle dalk onderling verskil. Om egter met God gemeenskap te hê, moet hulle in die lig wandel wat Hy aan hulle gegee het. As hulle dit nie doen nie, dan oortree hulle moedswillig God se wet. Volgens 1 Joh. 3:4 is dit sonde. Jy kan nie aanhou sondig en dan nog gered bly nie. As jy ongered is, dan is jy volgens Joh. 14:16-17 nie ‘n kandidaat vir die vervulling met die Heilige Gees nie. Ons moet klaarkry met sonde as ons gered is. Indien ons wél sondig, dank God, “ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Joh. 2:1). Ons kan onmiddellike verlossing soek en kry, en dan met ons Christelike lewe voortgaan.

3. Wanneer moet ‘n gelowige geheilig word?

So gou as wat hy sy behoefte hieraan besef.

4. Wie doen die werk van heiligmaking?

Slegs die Here kan heilig maak: “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely” (Heb. 13:12).

5. Watter stappe moet ‘n gelowige volg om volkome heilig gemaak te word?

Toewyding is wat elke gelowige moet doen om geheilig te kan word. Wanneer hy van sy behoefte aan heiligmaking bewus word, moet hy tot God bid en alle aspekte van sy lewe aan God oorgee. Toewyding beteken om aan God die beheer oor jouself, jou gesin, jou werk, jou tyd, jou geld, jou houdings en gedrag te gee – kortom oor alles nou én in die toekoms. Niks kan teruggehou word nie, want God wil volle beheer hê. Dit is soos om aan God ‘n blanko kontrak te gee en jou naam onderaan te teken. Hy sal dan die detail invul. Die gelowige kan die Here vra om sy hart van ingebore sonde te reinig en hom dan met sy teenwoordigheid te vul. Die gelowige kan in die geloof hierdie tweede werk van genade in sy hart toeëien.

6. Hoe kan ‘n mens weet wanneer jy geheilig is? Watter reaksies en gevoelens kan jy verwag wanneer heiligmaking verkry is?

Wanneer ‘n soeker alles gedoen het wat God vereis, en in die geloof heiligmaking toegeëien het, sal die Here een of ander tyd aan hom die getuienis in sy hart gee dat die werk gedoen is.

‘n Soeker moet nie enige spesiale gevoel, emosie of reaksie verwag nie. Ons word deur ‘n daad van geloof geheilig – nie deur sekere werke soos skreeu, huil, lag of om net passief te sit nie. ‘n Gevoel mag kom, of dit mag dalk glad nie kom nie. Sommige huil en ander skreeu van vreugde, terwyl andere heel kalm bly. Die reaksie heilig jou nie. God heilig diegene wat die nodige geloof en gehoorsaamheid beoefen.

7. Hoe lank moet jy na heiligmaking soek?

So lank as wat dit neem om dit te kry! Sommiges onderwerp hulleself gou in die geloof aan die Here en neem die ondervinding binne sekondes, of in net enkele minute, aan. Andere is weer verward en het probleme om hulleself aan God se wil oor te gee, en dit neem hulle langer. God kyk nie na die horlosie of kalender nie – net na jou hart.

8. Waar kan jy geheilig word?

Enige plek waar jy aan God se voorwaardes voldoen – in die kerk, by die huis, by die skool, by die werk, in jou motor, by ‘n kamp – enige plek.

9. Hoeveel keer moet ‘n persoon in sy lewe geheilig word?

Alle gelowiges moet ten minste een keer geheilig word, omdat almal die innerlike neiging het om te sondig. Indien ‘n persoon egter terugval en sy geestelike stand voor die Here verloor, kan hy na sy aanvanklike sondige toestand terugkeer, en selfs erger. As hy weer gered word, dan moet hy weer van voor af geheilig word. Heiligmaking word nie deur ‘n teruggevallene behou nie. Wanneer hy sondig, is hy nie meer aan God se wil vir sy lewe toegewy nie, en kan dus nie heilig wees nie.

10. Waarom moet ‘n mens geheilig word?

a.   Omdat dit God se wil is (1 Thess. 4:3).

b.   Omdat dit jou met krag beklee om die Here te kan dien (Hand. 1:8).

c.   Dit help om jou gered te hou, omdat jou wil aan God se wil toegewy is.

d.   Dit maak ‘n intiemer, voller en dieper wandel met die Here moontlik.

Volkome heiligmaking is ‘n vereiste vir die kind van God. Tóg is dit ook ‘n wonderlike voorreg! Wanneer daar aan God se voorwaardes voldoen word, kan gelowiges onmiddellik, definitief en heerlik geheilig word – ook in ons tyd!

 

7. Die Uitleef van ‘n Heilige Lewe

Sleutelteks:

"Wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees" (2 Kor. 13:11).

Sentrale waarheid

Ons dokumenteer en bewys heiligheid deur heilige lewens te leef, en ook deur Christelike etiese gedrag.

Les

Efésiërs 2:1-3

1 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en sondes

2 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,

3 onder wie ons ook almal vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.

Romeine 6:17-22

17 Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is,

18 en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid.

19 Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul siele diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking.

20 Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid.

21 Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood.

22 Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe.

1 Petrus 3:8-12

8 En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik.

9 Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.

10 Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie.

11 Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag.

12 Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Die heilsorde wat dr. Adam Clarke in sy boek Christian Theology gee, is behulpsaam in die bespreking van hierdie les:

1.   Sonde-oortuiging.

2.   Berou oor sonde.

3.   Geloof in die Here Jesus Christus wat vir ons oortredinge oorgelewer en vir ons regverdigmaking opgewek is.

4.   Regverdigmaking, of die vergifnis van alle sondes wat gedoen is deur geloof in Christus se bloed, gepaard met die getuienis van sy Gees in ons harte dat ons sondes vergewe is.

5.   Heiligmaking, wat progressief is terwyl ons in Jesus Christus, ons Hoof, in alle dinge opgroei. Die begin van dié proses kan oombliklik wees, omdat God dikwels in ‘n oogwink die hart van sonde kan reinig. Hierna kan die saad van geregtigheid groei en vrug dra in ons lewe.

6.   Volharding in die toestand van heiligmaking, terwyl ons glo, waak, en werk om in die volle verlossing bevestig te bly, en elke uur dieper indrukke van ons verseëling in God kry.

7.   Verheerliking is die gevolg, want hulle wat getrou tot die dood toe bly, sal die kroon van die lewe ontvang.

Sonder sonde-oortuiging is daar geen berou nie; sonder berou geen geloof nie; sonder geloof geen regverdigmaking en heiligmaking nie; en sonder heiligmaking geen verheerliking nie.

1. ‘n Begin in wedergeboorte (Efésiërs 2:1-3)

En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en sondes (v. 1). Elke lid van die geslag van Adam word geestelik dood in die wêreld gebore, en is glad nie in staat om homself lewend te maak nie. Volgens Wesley verwys “misdade” hoofsaaklik na die Jode wat wette gehad maar dit nie nagekom het nie omdat hulle na die vlees geleef het.  Die begrip “sondes” verwys na die dade van die heidene wat die prins van die mag van die lug [Satan] navolg.

Waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld (v. 2). Dit is nie ‘n geïsoleerde geval nie, maar eerder ‘n beskrywing van alle nasies op aarde wat buite die genade leef. Die verdorwe natuur en neiging tot sonde in die gevalle mens beïnvloed hom voortdurend op ‘n koers wat in opposisie teen God is: “omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom. 8:7). Om hierdie rede is die gevalle mens in ‘n bondgenootskap met die owerste van die mag van die lug. Hierdie verwysing is na Satan, die god van hierdie wêreld (2 Kor. 4:4). Hy is die leier van die owerhede, magte en die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu (Ef. 6:12). Volgens Wordsworth is hierdie magte uit die hemel gegooi maar nog nie tot die hel beperk nie, en het nou hulle koninkryk in die lug [die laer atmosfeer]. Mense word óf deur God óf deur die magte van die Bose gemotiveer, daarom word die ongereddes tereg die kinders van die ongehoorsaamheid genoem. Die diaboliese, anti-God gees van rebellie wat eerste deur Lucifer in die hemel gemanifesteer is, is die beherende faktor in die lewe van elke ongeredde persoon.

Onder wie ons almal ook vroeër gewandel het (v. 3). Paulus sê dat almal van ons se lewens “vroeër” op ‘n afdraende-koers was. Hier het ons ‘n duidelike beskrywing van die onweergeborenes wat in voortdurende gehoorsaamheid aan hulle gevalle, sensuele en diaboliese voorliefdes leef. In die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. “Natuur” in Grieks impliseer dit wat in ons gegroei het as die kenmerkende eienskap van ons wese. Dit het saam met ons gegroei en sterk geword, in teenstelling met dit wat van buite af op ons oorgedra is deur eksterne invloede. Die natuur is dus inherent en nie aangeleer of verkry nie (Job. 14:4; Ps. 51:7). Dit is ‘n toevallige bewys van die leer van die oorspronklike sonde [of erfsonde].

2. Gesentreer in heiligmaking (Romeine 6:17-22)

Julle was diensknegte van die sonde, maar het van harte gehoorsaam geword (v. 17). Dit was weens ‘n kettingreaksie van keuse en gevolg dat ons vroeër almal op die pad van die dood was. Danksy die Here se ingryping het dit alles egter verander. Ons het “in die hart” aan die nuwe lewenspatroon van die evangelie van genade gehoorsaam geword. Genade is op gehoorsaamheid ingestel – nie op losbandigheid nie. Elke daad van gehoorsaamheid bind ons nóg stewiger aan ons begeerde bestemming vas. Dit is nie die ou patroon van redding deur werke wat deur Paulus verwerp is nie. Dit is eerder redding deur genade wat gehoorsaam in ons daaglikse lewe uitgewerk word as deel van ‘n vaste hoop.

Vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid (v. 18). Die mens was nooit absoluut onafhanklik nie. Sy vryheid is om te kan besluit watter meester hy wil dien, en watter bestemming hy as gevolg daarvan sal nasteef. Deur genade is die regte keuse en ‘n suksesvolle nastrewing daarvan moontlik.

Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees (v. 19). Paulus gebruik die beeld van ‘n slaaf en sy meester om die idee van ‘n oorwelidgende beïnvloeding uit te druk wat hy wil beklemtoon. Want net soos julle jul siele diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking. Soos hulle vroeër met groot entoesiasme hulself aan losbandigheid oorgegee het, moet hulle nou met dieselfde intensiteit in die koninkryk van God diensbaar word.

Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid (v. 20). Julle het gedink dat geregtigheid onaangenaam en beperkend was. Julle was inderdaad vry daarvan as gevolg van julle gebondenheid aan die sonde. Hoe meer julle hieraan dink, hoe meer skrikwekkend word dit. Om vry van geregtigheid te wees, beteken om vol boosheid, perversie en goddeloosheid te wees. Alles wat faal om aan ‘n standaard te voldoen, is nie soos God nie.

Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? (v. 21). Noudat julle ontwaak het, is julle baie skaam oor al hierdie dinge. Dit is hoogs ontstellend en frustrerend. Julle kan julleself glad nie indink wat julle ooit in hierdie dinge gesien het wat dit die moeite werd gemaak het om dit na te volg nie. Die einde daarvan is die dood.

Maar nou [in teenstelling met “toe” in v. 21] dat julle vrygemaak is van die sonde (v. 22). Hulle het nou nét so vry van sonde geword as wat hulle vroeër, toe hulle ongered was, vry van die geregtigheid was. Hulle het hulself nie deur hulle eie pogings van moraliteit of werke van geregtigheid bevry nie. Hulle vryheid het deur die krag van goddelike genade gekom. Net die krag van God kan ‘n hart verander. Hulle het diensbaar geword aan God. Daar is nie so-iets soos absolute vryheid van alle wette nie. So teenstrydig as wat dit mag klink, is die enigste vryheid wat in hierdie wêreld die moeite werd is, diensbaarheid aan God. Ons hou op om diensknegte van die sonde te wees wanneer ons diensknegte van God word. Julle het jul vrug tot heiligmaking. Die vrug is dit wat voortgebring word. Dit is die gevolg. Die gevolg van die verlossing van sonde is ‘n heilige lewe. Dit is die groot doel van die evangelie – om heiligmaking in die lewens van mense voort te bring wat vroeër as sondaars ‘n sondige lewe gelei het. Verlossing gaan om veel meer as om ons net van die verdoemenis te red.

3. Gedemonstreer in ‘n heilige lewe (1 Petrus 3:8-12)

Eindelik (v. 8). Petrus kom nou by die belangrike stelling wat hy wil maak. Hy wou nie sy brief afsluit nie, maar het hom van spesifieke dinge af tot die breër Christendom gewend. Wees almal eensgesind. Die sosiale verhoudings in die Christelike familie moet deur eenheid gekenmerk word. Dit beteken dat hulle dieselfde ingesteldheid teenoor dinge moet hê. Paulus sê hieroor: “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge” (Rom. 8:5). Petrus het sy lesers vermaan om die belange van Christus en sy koninkryk deur hulle gemeenskaplike ywer en entoesiasme te bevorder. Hulle moes medelydend, vol broederliefde, ontfermend en vriendelik wees. Heilige mense moet ‘n sterk liefde, ontfermende harte en ‘n nederige ingesteldheid teenoor mekaar hê.

Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is (v. 9). Christene moet teenoor ander optree soos die optrede wat hulle teenoor hulleself verwag. Dit is ons roeping om goed te doen, en dit is ons groot taak in die lewe. Ons moet kwaad met goed vergeld en God se seëninge selfs op ons bitterste vyande laat rus. Dit is nie net ons plig om dit te doen nie, maar dit is ook in ons belang omdat God se seëninge as gevolg hiervan in ‘n ryke mate op ons lewe sal rus.

Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie. Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag (v. 10-11). In hierdie verse het Petrus waarhede uit Psalm 34:12-16 as riglyne vir ‘n goeie lewe geneem. Dit bestaan uit die verwerping van bose gedagtes en dade, en die najaag van ‘n vreedsame lewe onder die voorsienende sorg van God. Die gevolg hiervan sal nie net goeie dae in hierdie lewe wees nie, maar ook in die hiernamaalse lewe.

Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed (v. 12). Dit is die uitnemende seëninge van diegene wat die kwaad verwerp, die Here met rein harte dien en ook in liefde na hulle naaste uitreik. Hulle hou hulle nie met die probleme en sondes van die lewe besig nie, maar tel hulle seëninge en kan terugkyk op ‘n lewe van ryke seën op aarde. Hulle het tye van verkwikking voor die aangesig van die Here en kan ook van gebedsverhoring getuig. Dit is goed om te weet dat die oë van die Here op die regverdiges is, en sy ore tot hulle gebed.

Kommentaar oor die Sleutelteks

Wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees (2 Kor. 13: 11).

Wees volmaak. Paulus verwys beide na persoonlike volmaaktheid én die volmaaktheid van die kerk deur die regte ingesteldheid van al sy lede in Christus (Vincent). Godbey sien dit as ‘n verwysing na volmaakte liefde: “Hierdie werkwoord is in die bevelsvorm, en gee dus positief en uitdruklik aan almal ‘n opdrag oor Christelike volmaaktheid.” John Wesley het sy predikers soos volg vermaan: “Verkondig Christelike volmaaktheid gedurig, ernstig en uitdruklik.”

Vroeër in hierdie brief het Paulus gesê: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Hy herhaal dit weer aan die einde van die brief: “En hierom bid ons ook, naamlik om julle volmaking” (13:9). In die sleutelvers (13:11) roep hy die gemeente vaarwel toe met die vermaning tot volmaaktheid. Volmaakte liefde kan nóú die deel van die gelowige wees, terwyl hy absolute volmaaktheid eers by sy verheerliking sal kry.

Wees bly. Daar is geen groter blydskap as om te weet dat jou verhouding met God én jou medemens reg is nie. Die Heilige Gees is die Trooster van die gelowiges, wat aan hulle blydskap in hulle harte gee. Aan die ander kant skep dit groot ongelukkigheid as jy innerlik daarvan bewus is dat dinge op hierdie terrein nie reg is nie.

Wees eensgesind. Mag julle almal dieselfde dinge nastreef, die dinge van die Gees, dinge wat waar is, wat goed is, wat rein is en wat loflik is. “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was” (Fil. 2:5).

Hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees. Jesus word oral in die Bybel as die Prins van Vrede erken, terwyl Hy terselfdertyd deur die geïnspireerde skrywers as ‘n magtige stryder voorgestel word wat teen sonde, die dood en die hel geveg en hulle oorwin het. By ons bekering ontvang ons vrede met God, maar in heiligmaking word die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, ons deel. Dit bewaar ons harte en ons sinne, en hou ons in harmonie met ons Leidsman, Jesus Christus. Hy is die Prins van Vrede wat die uitwissingsoorlog teen sonde voer. Sonder die vernietiging van sonde kan daar nie so-iets as ‘n permanente en blywende vrede wees nie (Godbey).

Dit is moeilik, indien nie onmoontlik nie, om in vrede te leef terwyl daar oorlog in ons harte is, want harte wat vol onrus is, bevorder konflik en stryd. Die liefde kan nie bestaan waar daar rusies, argumente en verdeeldheid is nie. Waar liefde en vrede nie te vinde is nie, daar kan God nie wees nie. As Hý nie teenwoordig is nie, is mense in die geselskap van hulleself en die duiwel (Clarke).

Leerstellige Bespreking

Dit is baie paslik om hierdie praktiese toepassing van die leer van heiligmaking te hê. Ons moenie dink dat omdat Paulus die vermanings oor etiese gedrag aan predikers rig, dit net vir hulle bedoel is nie! Baie van hierdie eienskappe is die enigste moontlike manier vir ‘n heilige persoon om te leef, bv. monogamie, waaksaamheid, nugterheid, gasvryheid, ens. Ons aanvaar die leerstelling van John Wesley dat “suiwer liefde” die essensie van heiligheid is. Dit is met die oog hierop dat ons die vereistes vir ‘n heilige lewe gee soos dit in 1 Korinthiërs 13:1-7 genoem word.

‘n Heilige lewe word fyn deur die Heilige Gees ingestel, sodat daar ‘n korrekte balans tussen selfvernedering en selfversekering in ons lewens is. Die liefde is welsprekend, onderrigtend en het ‘n onderskeidingsvermoë. Dit kan berge versit, hoewel die meeste mense nie eers in staat is om die molshope te verskuif waaroor hulle struikel nie. Die liefde kan homself as ‘n offer gee, en is lankmoedig in lyding. Die volmaakte liefde is:

·      stadig om te verdink, gou om te vertrou;

·      stadig om te veroordeel, gou om te regverdig;

·      stadig om aanstoot te gee, gou om te verdedig;

·      stadig om te openbaar, gou om te bedek;

·      stadig om te berispe, gou om te verdra;

·      stadig om te verkleineer, gou om te waardeer;

·      stadig om te eis, gou om te gee;

·      stadig om uit te daag, gou om te versoen;

·      stadig om te hinder, gou om te help; en

·      stadig om te verafsku, gou om te vergewe.

Indien jy dalk dink dat dit nie heiligheid is nie, probeer dan om dit uit te leef terwyl jy vleeslik is! Die woord in Grieks wat vir lankmoedigheid gebruik word, beskryf omtrent altyd geduld met mense. Dit kom van twee woorde af, naamlik ‘n “lang gemoed.” Hierdie uitdrukking kom ook in 2 Petrus 3:9 voor, wat lui: “Die Here vertraag nie die beloftes soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”

Daar was al baie gevalle van sondaars wat uiteindelik tot bekering gekom het nadat Christene lankmoedig, vriendelik en behulpsaam teenoor hulle opgetree het. Dit word vertel van ‘n man wat elke keer dronk van die dorp af na sy huis teruggekom het. ‘n Christen het hom ontferm oor hierdie man wat ál slingerende geloop het, omdat hy bang was iemand ry hom raak. Hy het hom opgelaai, na sy huis toe geneem, skoongemaak en in die bed gesit. Later is hierdie man gered. Hy het gesê dat dit die lankmoedigheid en vriendelikheid van die Christen was wat hom oorgewen het. Is ons vriendelik, behulpsaam en lankmoedig teenoor ander persone in die samelewing wat dalk ons hulp dringend nodig het?

Die liefde is nie jaloers op andere wanneer hulle suksesvol is nie, maar is bly saam met hulle. Die liefde handel nie onwelvoeglik nie, maar is vriendelik en hulpvaardig. Dit soek ook nie sy eie belang nie, maar bevorder die belange en regte van ander. Isak het ‘n put gegrawe waarvan die eienaarskap betwis is. Hy het nie hieroor gestry nie, maar ‘n ander een gegrawe. Mense het hom hieroor gehaat, daarom het hy dit gelos en nóg een gegrawe wat nie betwis is nie. Hy het dit Rehobot genoem, wat Ruimte beteken.

Die liefde word nie verbitterd of kwaad onder provokasie nie. Elke keer as jy jou humeur verloor, dan wys jy dat die vlees oor jou heerskappy voer.

Die liefde reken die kwaad nie toe nie, en skuif alle bose gedagtes oor ander mense van hom af weg. Die teenoorgestelde hiervan sou wees om van jou verontregting deur ander mense rekord te hou. Dit is presies wat mense in sekere dele van Indonesië doen. Hulle neem stroke van palmblare en hang dit aan hulle huise se plafonne op. As iemand iets verkeerd aan hulle doen, dan skryf hulle dit op een van daardie stroke sodat hulle dit nie moet vergeet nie. Elke keer as hulle teen die betrokke persoon vasloop, dan onthou hulle die kwaad wat hy aan hulle gedoen het. Daar is baie mense in die wêreld wat hierdie gesindheid openbaar deur nét so verbitterd en onvergewensgesind teenoor diegene te wees wat hulle benadeel het.

Die liefde is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Die ware liefde ween oor die kwaad, maar is opreg saam met ander bly oor hulle sukses.

Hierdie verse is die samevatting van ‘n heilige lewe. Dit mag wees dat sekere mense kleiner hoeveelhede van dié kenmerke in hulle lewe het. Dit is egter nodig om eers alle onreinheid uit die weg te laat ruim sodat ons ten volle met die natuur van God vervul kan word. Mag die Here ons harte hiervoor reinig en verruim!

Die volgende is praktiese eienskappe van ‘n lewe van heiligmaking. Dit is:

·      ‘n duidelike ervaring van regverdigmaking;

·      ‘n volkome gehoorsaamheid aan die wil van God;

·      ‘n gelowige lees van die Woord;

·      ‘n lewenskragtige gebedslewe;

·      ‘n sensitiewe gewete, selfs vir klein dingetjies;

·      ‘n selfverloëning ter wille van Jesus;

·      ‘n begeerte dat alle gesprekke oor die geestelike welsyn van mense sal eindig;

·      ‘n ingesteldheid om boeke of artikels te lees wat oor heiligmaking en die vervulling met die Heilige Gees handel;

·      ‘n belydenis wat vorentoe kyk na die vervulling van die Here se beloftes;

·      ‘n dors na die geregtigheid van God; en

·      die gebruik van alle genademiddels.

Vrae en Antwoorde

Wanneer ‘n persoon volkome heilig gemaak is, het hy nie die kruin van sy lewe bereik nie. Die lewe gaan voort, met sy hoogtepunte, laagtepunte en middelmatige ervarings. Ons les handel oor die onderwerp van ‘n heilige lewe, waardeur ons in staat gestel word om die soet én die suur van die lewe te kan hanteer. Die volgende is vrae en antwoorde oor hierdie lewe:

1. Wat is die basiese begeerte van ‘n waarlik geheiligde persoon?

Om God ten volle lief te hê en te behaag deur Hom te dien en sy leiding te volg. Paulus bid die Kolossense toe: “dat julle vervul mag word in die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardig voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9-10; kyk ook 1 Joh. 2:6 en Matt. 22:37).

2. Hoe kan ‘n persoon reg leef voor God?

Die toestand van die geestelike hart help om te bepaal hoe ons sal optree (Spr. 4:23). As ons hart boos en onrein is [die natuurlike staat van die ongeheiligde] sal ons God mishaag. Volgens Mattheus 15:19 kom slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diefstal, valse getuienis en lastertaal uit ‘n bose hart. ‘n Gereinigde hart sal egter die regte gedrag bevorder. Volgens Mattheus 12:35 “bring die goeie mens uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn.”

As ons God toelaat om ons harte van alle sonde te reinig en dit met sy teenwoordigheid te vul, dan kan ons reg voor Hom leef. Ons moet natuurlik aanhou om Hom te gehoorsaam en deur die geloof te lewe (Rom. 6:18; 1 Joh. 2:6).

3. Wie is die bron van krag vir ‘n geheiligde persoon? Kan ‘n mens hierdie lewe uit jou eie krag lei?

God is die bron van krag vir die geheiligde. Hy, en net Hy alleen, kan ons die krag gee om suiwer en sondelose lewens te lei. Volgens 1 Petrus 1:5 word ons “in die krag van God bewaar deur die geloof tot die saligheid.” Kolossense 1:11 sê dat ons “met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid.” Efésiërs 3:16 sê dat die Here aan ons gee om “na die rykdom van sy heerlikheid met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens.” Volgens 2 Korinthiërs 10:4 is “die wapens van ons stryd nie vleeslik [menslik] nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp.” ‘n Persoon kan glad nie op sy eie krag vertrou om ‘n heilige lewe te lei nie. God moet Hom met sy teenwoordigheid vervul, en hom sodoende met krag uit die hoogte beklee.

4. Wat is sommige van die maniere waarop ‘n heilige persoon moet leef? Wat is die eienskappe van heilige mense?

a.   Ontfermend (1 Pet. 3:8).

b.   ‘n Ware liefde vir ander (1 Pet. 3:8; Rom. 12:9).

c.   Medelydend [‘n sagte hart] (1 Pet. 3:8).

d.   Vriendelik (1 Pet. 3:8).

e.   Vergeld nie kwaad met kwaad nie (1 Pet. 3:9).

f.     Spreek nie kwaad nie (1 Pet. 3:10).

g.   Doen goed en verafsku kwaad (1 Pet. 3:11).

h.   Soek vrede en jaag dit na (1 Pet. 3:11).

i.     Diensbaar aan die geregtigheid (Rom. 6:18).

j.     Is nie lui nie (Rom. 12:11).

k.   Hoopvol (Rom. 12:12).

l.     Geduldig in verdrukking (Rom. 12:12).

m. Volhard in die gebed (Rom. 12:12).

n.   Help die behoeftiges (Rom. 12:13).

o.   Gasvry (Rom. 12:13).

p.   Seën dié wat hom vervolg (Rom. 12:14).

q.   Meegevoel met ander (Rom. 12:15).

r.     Identifiseer met die nederiges (Rom. 12:16).

s.   Eerlikheid (Rom. 12:17).

t.     Leef so vreedsaam as moontlik (Rom. 12:18).

u.   Neem nie wraak nie (Rom. 12:19).

v.    Verloën goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede (Titus 2:12).

w.   Ingetoë (Titus 2:12).

x.   Nie wêreldsgesind nie, maar is verander deur die vernuwing van sy gemoed (Rom. 12:2).

y.  Word deur die Heilige Gees gelei (Rom. 8:1).

z.  Oorwin die kwaad deur die goeie (Rom. 8:6).

5. Kan die geheiligde persoon tot sonde versoek word? Is versoeking sonde? Hoe kan versoekings oorwin word?

‘n Geheiligde persoon kán tot sonde versoek word. 1 Petrus 1:7 praat van “die beproefdheid van julle geloof.” Jakobus 1:2 sê: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val.” Hebreërs 4:15 verwys na Jesus “wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.”

Versoekings is nie sonde nie. In ‘n geestelike sin is dit ‘n poging wat regstreeks of onregstreeks deur Satan aangewend word om ‘n persoon oor te haal om sonde te doen. As hy nie aan die versoeking toegee nie, het hy nie gesondig nie. Sonde is die oortreding van die wet. In Jakobus 4:7-8 word drie stappe genoem wat gevolg kan word om versoekings te oorwin. Stap 1: Onderwerp jou aan God, sodat jy volkome onder sy beheer is. Stap 2: Weerstaan die duiwel in die naam van die Here, dan sal hy van jou wegvlug. Stap 3: Nader tot God, en Hy sal tot jou nader. Hy sal jou help:

“Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra” (1 Kor. 10:13).

6. Kan ‘n geheiligde persoon sondig en nogtans aanhou om ‘n heilige lewe te lei?

Nee. Ons word in 1 Korinthiërs 10:12 gewaarsku dat ons versigtig moet wees om nie weer te sondig nie. As iemand moedswillig en in stryd met God se Woord sondig, dan is die liefde van God nie in hom nie (1 Joh. 3:6, 9).

‘n Geheiligde persoon het die godgegewe keuse om ‘n heilige of ‘n sondige lewe te lei. Hy kán sondig, maar hy wil dit as gevolg van sy liefde en toewyding teenoor God nié doen nie. Judas 1:24 impliseer ook dat ‘n Christen kan sondig, wanneer hy sê: “Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar.” 1 Johannes 2:1 dui ook aan dat ons kan sondig: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het…” Wanneer ‘n Christen sonde gedoen het, moet hy reguit na Christus gaan en Hom vra om vir begenadiging voor die Vader se troon te pleit: “Ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1-2).

7. Word menslike eienskappe deur volkome heiligmaking van ‘n persoon verwyder? Het die geheiligde nog sy eie persoonlikheid? Kan hy nog menslike foute maak?

Die geheiligde persoon is nog steeds volkome menslik. Hy word honger, moeg, depressief, bly, bedroef, opgewonde, ens. Heiligmaking help ‘n persoon om sy menslike passies en swakhede te kan beheer op ‘n manier wat God behaag, omdat hy sy wil aan God se wil onderwerp en sy hart met die Gees van God vervul is.

Die basiese persoonlikheid van ‘n kind van die Here bly dieselfde as vroeër. Ná sy heiligmaking sal ‘n persoon waarskynlik nog steeds ernstig, snaaks, optimisties, lief vir die buitelewe, of wat ook al, wees. Hy word egter nou deur die Heilige Gees gelei. Indien hy hierdie leiding aanvaar, kan hy steeds van sy ou persoonlikheidseienskappe vertoon, maar nou is hulle onder die Heilige Gees se beheer en hy leef reg voor die Here. Hy kan as mens nog foute maak, en moet dan vir die Here vra om hom dit te vergewe. Sy hart sê nog altyd ja vir God en hy hou aan om Hom te dien – nieteenstaande sy menslike persoonlikheid.

8. Is die inisiële stap van toewyding wat gedoen word wanneer volkome heiligmaking gesoek word, vir altyd genoeg?

Die toewyding van ons “alles” aan God is ‘n moet as ons volkome geheilig wil word. Ten tye van ons oorgawe is daar ‘n deel van daardie alles wat onbekende toekomstige omstandighede en situasies insluit. Soos die tyd verbygaan, ontstaan daar nuwe situasies wat hanteer moet word. Die Here wil hê dat ons ook hierdie onbekende toekoms aan Hom moet toevertrou. Hy sal ons die krag en wysheid gee om elke nuwe uitdaging of probleem te bowe te kom.

‘n Daaglikse hertoewyding aan die Here se wil sal die geheiligde persoon help om steeds reg voor God te wandel. Na hierdie daaglikse toewyding word in Lukas 9:23, 1 Korinthiërs 15:31 en Galásiërs 2:20 verwys. Ons moet “elke dag” ons kruis opneem en Hom volg.

Die geheiligde persoon tree nie soos die wêreldlinge op nie. Alhoewel hy menslik is, word hy nou deur die Heilige Gees van God gelei om opreg voor God en die mense te wandel. Solank as wat hy sy wil aan die wil van God ondergeskik hou en gehoorsaam in die geloof lewe, sal hy voortgaan om ‘n heilige lewe te lei.

REGVERDIGMAKING EN HEILIGMAKING

·      In regverdigmaking is daar lewe – in heiligmaking is daar ‘n oorvloedige lewe.

·      In regverdigmaking is daar liefde – in heiligmaking is daar volmaakte liefde wat alle vrees na buite dryf.

·      In regverdigmaking is daar vrede mét God – in heiligmaking is daar die vrede ván God wat alle verstand te bowe gaan.

·      Regverdigmaking vernietig die uitspruitsels van sonde – heiligmaking vernietig die wortels van die sonde.

·      In regverdigmaking word ons met die nuwe mens beklee – in heiligmaking lê ons die oue mens met sy werke af.

·      In regverdigmaking is daar afwisselende blydskap – in heiligmaking is daar ‘n volheid van onafgebroke blydskap.

·      Regverdigmaking word deur oorgawe, bekering en geloof verkry – heiligmaking word deur gehoorsaamheid, toewyding en geloof verkry.

‘N NUWE BEGIN IN MY BEDIENING!

Ek was 23, ek het al sewe jaar lank gepreek en 15 preke gehad. Ek het gedink dat daardie 15 boodskappe die wêreld sou omkeer. Nadat ek hulle gepreek het, was daar nie eers 15 meer mense in die kerk as toe ek begin het nie.

Toe ek in Mei 1882 met hierdie situasie gekonfronteer was, het God my bewussyn verlig om te besef dat ek ‘n versterking deur sy krag nodig gehad het. Ek het ‘n oorgawe gemaak, ek is met die Heilige Gees vervul en my hele lewe het verander. Ek het nie ‘n nuwe verstand gekry nie, maar ‘n nuwe geestelike ingesteldheid. Ek het nie ‘n nuwe vorm van spraak gekry nie, maar ‘n nuwe doeltreffendheid in my prediking. Ek het nie ‘n nuwe woordeboek gekry nie, maar ‘n nuwe Bybel!

Ek was onmiddellik ‘n nuwe mens. Ek het dieselfde natuurlike hoedanighede gehad, maar dit is lewendig gemaak, met krag en energie versterk, en tot só ‘n vlak van doeltreffendheid omskep dat niemand ooit gedink het dat dit moontlik was nie. Dit is wat gebeur as die Heilige Gees in sy volheid oor jou kom.                                                                                  – Samuel Chadwick

 

8. Heiligheid – God se Plan vir die Kerk

Sleutelteks

"Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons" (Joh. 17:11).

Sentrale waarheid

God het bepaal dat die bruid van sy Seun heilig moet wees.

Les

Efésiërs 5:25-27

25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het

26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die Woord,

27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.

Johannes 17:15-21

15 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.

16 Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.

17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

18 Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.

19 En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.

20 Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo –

21 dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

1 Thessalonicense 3:11-13

11 Maar mag onse God en Vader self en onse Here Jesus Christus ons weg na julle toe rig;

12 en mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is,

13 sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Die gesin en die kerk is albei instellings van God vir die voortsetting en bewaring van die mensdom in blydskap en heiligheid. Die welsyn van die mensdom is regstreeks van die krag en stabiliteit van hierdie twee instellings afhanklik.

Die Here het sekere riglyne vir die sukses en gesonde funksionering van die gesin en die kerk neergelê. As die gesin as instelling ooreenkomstig die planne funksioneer van Hom wat dit ingestel het, sal dit ‘n heilsame invloed op die samelewing hê. As die kerk die plan en doel wat die Here daarmee het, verwesenlik, sal dit ‘n hoogs suksesvolle instelling wees waarmee die belange van die samelewing gedien sal word.

Die kerk kan egter nie die samelewing dien deur met ander sosiale instellings mee te ding nie. Die funksie van die kerk is nie sosiaal nie, maar geestelik. As die kerk nie ‘n sterk geestelike impak op die samelewing het nie, dan bereik dit nie sy doel nie. ‘n Kerk wat met sosiale organisasies meeding deur balspeletjies, rolballigas, swemspanne, sopkombuise, basaars, danse, skaatsbyeenkomste, ens., te reël, is besig om die God-bepaalde redes vir sy bestaan te verwerp – óf hy het dit alreeds verwerp.

1. God se plan vir sy kerk (Efésiërs 5:25-27)

Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad het (v. 25). Paulus het nie eensydige of skewe sienings oor die gesin en die kerk gehad nie. In vers 22 het hy pas gesê dat vrouens aan hul mans onderdanig moet wees soos aan die Here. Sy vermaning was dat “soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.” Indien die mans hulle vroue liefhet soos Christus die gemeente liefhet, sodat haar begeertes en blydskap altyd vir hom belangrik is, en indien die vroue aan hul mans onderdanig is soos die gemeente in liefdevolle toewyding aan Christus is, dan sal daar geen behoefte aan organisasies wees wat kompetisie en vyandskap tussen mans en vrouens aanmoedig nie. Christus het Homself [vir die gemeente] oorgegee. Mans moet hulleself vir hul vroue oorgee, en die vroue moet hulleself aan hul mans gee sodat hulle aan mekaar kan behoort. In hierdie opsig is die huwelik ‘n tipe van Christus en sy kerk. Die werkwoord “liefhê” is in die teenwoordige imperatiewe vorm, en beteken dat ons “moet aanhou om lief te hê.” Dit is ‘n voortgaande proses.

Om dit [die gemeente] te heilig, nadat Hy dit gereinig het (v. 26). Die hoofwerkwoord “heilig” dui hier op ‘n handeling wat plaasvind nadat die gemeente “gereinig” is. “Reinig” dui hier op die inisiële reiniging by wedergeboorte, en “heilig” op die tweede genadewerk van die reiniging van ingebore sonde (Beacon Bible Comm.).

Sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees (v. 27). Christus het Homself aan die kerk oorgegee om dit te heilig. Die doel hiermee is sodat hy die kerk in ‘n verheerlikte toestand voor Hom kan stel. Daar is ‘n noue verband tussen die heiligheid en die heerlikheid van die kerk. ‘n Kerk wat deur sonde en wêreldsgesindheid bevlek is, en rimpels het weens sy gebrek aan ontwikkeling, word beslis nie deur ‘n atmosfeer van heerlikheid gekenmerk nie. God se plan vir die kerk is dat die lede daarvan moreel, eties en geestelik suiwer en onbevlek sal wees. Enige vlekke van onreinheid sal die kerk daarvan verhinder om sy opdrag in die wêreld uit te voer.

2. Christus se gebed vir die gelowiges (Johannes 17:15-21)

Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie (v. 15). Christus se missie en doel vir sy dissipels is “in die wêreld.” Hulle sou nie hulle opdrag kon uitvoer as hulle uit die wêreld weggeneem word nie. Net so seker as wat hulle nie God se doel sou bereik as hulle uit die wêreld weggeneem word nie, sal hulle dit ook nie kan doen as hulle die wêreld in hulleself opneem en wêreldsgesind word nie. Om hierdie rede bid die Here Jesus dat sy Vader hulle van die Bose bewaar. Volgens hierdie gebed kan Christene enige plek in die wêreld die Here dien sonder om wêreldgelykvormig te word, indien hulle God sal toelaat om hulle van die bose wêreld te bewaar.

Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie (v. 16). Christus was, en is, uit pas met die gees van die wêreld. Diegene in wie Hy woon, ervaar dieselfde konflik met die gees van die wêreld. Wêreldsgesindheid is die teenoorgestelde van geestelikheid. Die gees van die wêreld is antagonisties teenoor die Gees van God. Dr. J.H. Jowett sê: “Wêreldsgesindheid is ‘n gees, ‘n temperament, ‘n houding van die siel.” Iemand het opgemerk dat alhoewel daar miljoene wêreldse kerklidmate mag wees, is daar nie een wêreldse Christen op die hele aarde nie. Jakobus 4:4 verklaar uitdruklik dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is. Dit is vyandskap teen God wat ‘n mens beïnvloed om selfs net te begeer om ‘n vriend van die wêreldse gees te wees. Christene moet nét so anders as die wêreld wees soos wat Jesus Christus was.

Heilig hulle in u waarheid (v. 17). Die Heilige Gees lei ons in die hele waarheid. Die waarheid lei ‘n mens daartoe om jou geestelike behoefte en verdorwenheid te besef, maar lei jou ook na die voorsiening van goddelike genade vir die reiniging van verdorwenheid en die vervulling van geestelike behoeftes. Die waarheid van God se Woord is altyd in harmonie met heiligheid en in opposisie teen die sonde.

Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur (v. 18). Christus het aan sy volgelinge dieselfde verlossingsbediening opgedra as wat Hy gehad het toe Hy op aarde was. Hy het nie gebid dat hulle uit die wêreld weggeneem word nie, want Hy was van voornemens om aan hulle ‘n opdrag in die wêreld te gee. Hy wil hê dat die heiliges die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde moet wees. Hy het geen deel aan die idee om godsdiens in kloosters te isoleer, en sodoende kontak met die behoeftes van die wêreld te verwerp nie. Een van die groot aanklagte van die Fariseërs teen Jesus was dat Hy Homself nie [soos hulle] van ‘n groot deel van die samelewing onttrek het nie, maar inteendeel ‘n vriend van die tollenaars en sondaars was. Hy was as ‘n vriend van sondaars in die wêreld, maar nooit vriendelik teenoor die wêreldse gees nie. Hy wil hê dat sy volgelinge ook in die wêreld sal wees, maar nie van die wêreld nie.

En Ek heilig Myself vir hulle (v. 19). Hierdie vers beeld die dubbele betekenis van die woord “heiligheid” uit. Wanneer dit in verband met Jesus gebruik word, beteken dit om vir heilige doeleindes toe te wy en af te sonder. Dit het Christus gedoen toe Hy Homself sonder vlek aan God geoffer het as die versoening vir die sondes van die wêreld. Die doel van Christus se heiliging of toewyding [die offer van Homself] was dat Hy die gelowiges kon heilig of reinig van sonde, en dus vervolmaak: “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word” (Heb. 10:14).

Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo (v. 20). Dieselfde gebed wat die Here Jesus vir die vroeë dissipels gebid het, het Hy ook gebid vir almal in die wêreld wat deur hulle woord in Hom sou glo. Sommige van sy gebedsversoeke vir hulle was:

1.   dat hulle met sy blydskap vervul sal word (v. 13);

2.   dat hulle een sal wees (v. 11, 21-23);

3.   dat hulle heilig sal leef (v. 17, 19);

4.   dat hulle die doel van God vir hulle lewens in die wêreld sal vervul (v. 18-21); en

dat hulle in die hemel met Hom verenig sal word om sy heerlikheid te aanskou (v. 24).

Watter groot verantwoordelikheid rus daar nie op alle Christene om in die geloof toe te eien wat Christus vir hulle gebid het nie! Petrus gee die versekering dat hierdie beloftes aan almal toekom wat na die Here toe geroep word (Hand. 2:39).

Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U (v. 21). Die eenheid wat Jesus vir sy volgelinge ten doel stel, het sy analogie in die eenheid van die Godheid – eenheid van doel, eenheid van aktiwiteit en eenheid van karakter. Dit moet oor veel meer as net eenheid in die groep gaan, anders sal die groep sy eie fluktuerende en uiteindelik vervallende standaard stel. Dit moet eenheid met God die Vader en God die Seun wees. As dit nie die geval is nie, dan is dit ‘n valse eenheid, want eenheid in sigself is nie ‘n deug as dit nie op ‘n waardige norm gebaseer is nie. Hierdie gebed vir eenheid word as ‘n sterk argument vir die ekumeniese vereniging van kerke gebruik, sonder om egter op die hoë standaarde te let wat die Bybel vir eenheid stel. Sekere kerkleiers propageer slegs organisatoriese eenheid en nie die teologiese ervaring van eenheid nie. Dit was egter nie Christus se doel met sy gebed nie, en is ook nie die beste toepassing vir hierdie gebed nie. Sonder om die waarde van Christelike eenheid te ontken, of dit organisatories is of nie, moet ware Christelike eenheid op ‘n belydenis van die Godheid van Jesus Christus en die genoegsaamheid van sy versoeningswerk gebaseer wees, en ook deur die antwoorde op die ander gebedsversoeke vir oorwinning en reinheid in die gebed van Jesus versterk word.

3. Die kerk se voorbereiding vir Christus (1 Thessalonicense 3:11-13).

Maar mag onse God en Vader self… ons weg na julle toe rig (v. 11). Paulus weet hoedat die Here hom na die Christene in Éfese gelei het sodat hulle die Heilige Gees in sy volheid kon ontvang (Hand. 19:1-6). Hy het geglo dat God ook sy bediening onder die Thessalonicense sou seën.

Mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal (v. 12). Slegs Christene in ‘n hoë toestand van regverdigmaking is geskikte kandidate vir die volheid van die seën van die evangelie in Jesus Christus.

Sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader (v. 13). Paulus het verskeie Christelike eienskappe in hierdie gemeente raakgesien (1:2-10). Ten spyte van hierdie eienskappe het hy agtergekom dat hulle ook nog ernstige geestelike behoeftes gehad het. Hy het begeer dat hulle heilig en onberispelik voor die Vader gestel sal word.

Kommentaar oor die Sleutelteks

Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons (Joh. 17:11).

Hierdie versoek kom uit Jesus se hoëpriesterlike gebed vir sy dissiples, en is “ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo.” Dit sluit alle gelowiges in. Terwyl Jesus sy hart voor die Vader oopmaak, voel mens amper soos ‘n indringer wat net stil wil wegsluip. Die gebed is egter vir die gelowiges, en almal behoort hieraan aandag te gee. Baie van die las wat hierin uitgedruk is, was vir hulle eenheid. Jesus het geweet dat sonder dit, die doeltreffendheid van sy dissipels grootliks verhinder sou word. Hy het gebid dat sy volgelinge in die Naam van die Vader bewaar sou word. Dit sou baie verwarring uitskakel en eenheid in leerstelling en arbeid tot gevolg hê. Hy het ook vir hulle heiligmaking gebid. Dit sou die eenheid in gees en liefde bevorder.

Aan die begin van die kerkbedeling was “almal wat gelowig geword het, bymekaar” (Hand. 2:44). Die hele Christelike gemeenskap was soos een groot familie. Dit was ‘n natuurlike gevolg van die feit dat hulle uit die Gees gebore is, met die Gees vervul was en ‘n intieme verhouding met mekaar gehandhaaf het. Goddelike liefde het van die een hart na die ander gevloei. Hulle leer was dié van die apostels. Hulle het toe nog nie begin om geloofsformuliere en rituele in te stel wat verdeeldheid kon skep nie. Dit was die eenheid wat Jesus gebid het dat hulle [én ons] moet hê. Die Christene het uiteindelik weens die vervolging uit Jerusalem verstrooi geraak, maar oral waar hulle gekom het, het die plaaslike gelowiges ‘n gemeente gestig.

Dit is jammer dat hierdie eenvoudige Christelike eenheid opgehou het om te bestaan. Selfs in Paulus se dag het die gees van onenigheid al ontstaan (kyk veral 1 Kor. 1:12-13; 3:3-4). Hier het Paulus gou agtergekom dat hulle groot behoefte dié van heiligmaking was, want hulle vleeslikheid “onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom. 8:7). Oral waar vleeslikheid sy lelike kop uitsteek, ontstaan daar ernstige probleme. Petrus, Paulus en Apollos was manne van God wat verenig in hulle poging vir Christus gestaan het: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei” (1 Kor. 3:6). Heiligmaking is ‘n sterk verenigingskrag. Neem vleeslike selfsugtigheid en bekrompenheid weg, en vervang dit met goddelike liefde. Watter ander gevolg kan dit hê as dat dit die harte van die gelowiges in Christelike liefde sal saambind?

In Johannes 17:21 bid Jesus verder vir die eenheid van die gelowiges, “sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” Met strydende faksies in die Christendom, groot verskille in leerstellings en standaarde, en die totale gebrek aan ‘n gemeenskaplike liefde, is dit geen wonder nie dat die wêreld in só ‘n toestand van godsdienstige verwarring en ongeloof is. As gevolg hiervan word baie van die Christelike pogings deur ‘n ongelowige wêreld geïgnoreer.

As Christene aan die einde van die 20ste eeu, laat elkeen van ons alles in sy mag doen om die heiligheid en eenheid te bevorder waarvoor die Here Jesus so ernstig gebid het. Terwyl ons dit doen, sal sommige van die verwarde en dwalende siele hopelik na die weg, die waarheid en die lewe gelei kan word.

·      “Laat die kerk ernstig wees in sy soeke na groter heiligheid vir sy lede, dan sal die vraag gou beantwoord word of haar kragbron voldoende is om die wêreld te verander” (J.H. Thornwell).

·      “As die kerk na sy volle statuur in God wil ontwikkel, as dit die oorvloedige lewe wil ervaar, as dit sy vyande in ‘n gees van oorwinning wil ontmoet, moet dit nie op sy getalle of vermoëns staat maak nie, maar op die krag van die Heilige Gees” (Arthur J. Moore).

Leerstellige Bespreking

Die kerk van die Here bestaan uit weergebore mense wat wandel in die lig wat aan hulle gegee word deur die Bybel, die bediening van die Heilige Gees, of deur watter ander instrument die Here verkies om lig aan mense te gee. Een van die belangrike gedeeltes in die Bybel waar die wil van God vir die kerk gevind kan word, is die hoëpriesterlike gebed van Jesus Christus in Johannes 17. In verband met die kerk, kan die gebed in drie dele verdeel word:

1.   Heiligmaking vir elke gelowige (v. 17).

2.   Vryheid van verdeeldhede (v. 21, 23).

3.   Ingesteldheid op die kerk se hoofdoelwit (v. 21, 23).

Ten einde hierdie drie punte makliker te kan onthou, kan hulle só geformuleer word:

1.   Eenheid in karakter.

2.   Eenheid onder die lede.

3.   Eenheid van doelstelling.

Let daarop dat daar nooit eenheid en harmonie in ons karakter sal wees totdat ons met al die volheid van God vervul is nie. Vier temas wat duidelik uit die boek Handelinge blyk, is: gebed, krag, reinheid en persoonlike getuienis. Wanneer hierdie vier elemente deel van ‘n persoon se lewe is wat van innerlike én uiterlike besoedeling gereinig is, dan het jy ‘n individu wat ‘n groot aanwins vir enige gemeente sal wees. Hy ís natuurlik ‘n lid van die groot Kerk van die lewende God!

Baie meer van ons is – om ‘n gunstige opmerking oor ons geestelike lewe te maak – steeds besig om ‘n dieet van melk te volg, lank nadat ons al gespeen moes gewees het! As gevolg hiervan is ons swak, wankelrige Christene wat met onvaste treë loop. In plaas dat ons soldate vir die kruis is, dra ons nog borslappies soos babas!

Iemand het gesê dat as God ‘n belangrike getuie in sy diens wil voorberei, dan begin Hy met dié persoon se ouma. Die plan vir heiligmaking in só ‘n persoon se lewe kan natuurlik deur sy vrye wil verydel word indien hy sou weier om die seën van heiligmaking te verkry waarvoor die Here Jesus gebid het. Só ‘n mens bevind homself in die toestand wat in Galásiërs 5:17 beskryf word: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.”

Solank as wat daar jaloersheid, twis en tweedrag in die hart verborge is, sal daardie persoon dit in die gemeente waaraan hy behoort, indra. Daar ís egter ‘n oplossing! Elke gelowige moet die ontvanger van Jesus se gebed in Johannes 17:17 wees. Dan sal hy nie meer in ‘n stryd met homself én met andere gewikkel wees nie.

Daar is ‘n eenheid onder die ware kinders van die Here wat bekoorlik is om te aanskou. Dit is dieselfde soort eenheid as wat verkry is toe die mure van Jerusalem herbou is. Die mense het een gemeenskaplike doel gehad, en dit was om te werk! Baie van ons het nog nie ons eng provinsialisme verwerp nie, gevolglik dink ons dat heiligmaking afsluiting van mekaar is, in plaas van afsluiting van die wêreld. Ons moet duidelik verstaan dat die wêreld, volgens Bybelse definisie, mense daarvan weerhou om Christene te word: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Joh. 2:15). Christene moenie ‘n minimum standaard daarvan maak om hulleself van die bose wêreld te distansieer nie. Wat die verwerping van vriendskap met die wêreld betref, moet ons sterk en verenigd staan.

Daar is natuurlik sake waaroor Christene met mekaar sal verskil totdat ons harte en koppe in ons opstandingsliggame volmaak sal wees. Sulke verskille verbreek nie ons liefde vir mekaar nie, en weerhou ons ook nie daarvan om in sekere areas waar ons kan, met mekaar saam te werk nie. Die betekenis van ‘n heilige kerk word in dié opmerking vervat: “Kyk hoe lief het hulle mekaar.”

Eenheid in verskeidenheid is ‘n baie sterker eenheid as ‘n eenheid wat geen individuele opinies duld nie.

Daar is iets verkeerd met iemand wat altyd neerhalende opmerkings oor homself maak, asook oor die ware kerk as die liggaam van Christus.

Gelowiges wat een van gees is, is ‘n mooi simbool van die Drie-eenheid. Wees daarvan verseker dat die ware kerk in stand gehou sal word totdat die Here Jesus kom! Die jammerlike saak is dat baie kerklidmate dit in daardie dag nie sal maak om hemel toe te gaan nie, want al hulle werke sal verbrand en hulle invloed as nutteloos geopenbaar word.

Miskien het ons vergeet waarom die kerk heilig en eensgesind moet wees! Dit is omdat die sondige wêreld moet besef dat Jesus die Christus is, dat God hulle liefhet en dat Hy hulle siele wil red. ‘n Heilige kerk sal ‘n hemelse invloed hê.

Daar is ‘n eenheid in doelstelling onder dié wat met die Heilige Gees vervul is. Jy kan nie teen seminare gekant wees waar mense geleer word om sielewenners te wees nie. Dit behoort egter ons groot begeerte te wees dat gebed, wat tans so afgeskeep word, weer ‘n belangrike aktiwiteit sal word om op die redding van sondaars en ander probleme van die behoeftige wêreld te fokus.

Wanneer daar ‘n eenheid van gelowiges was – in hulleself én in die korporatiewe liggaam van Christus – was daar ‘n toonbeeld van God se teenwoordigheid en instemming gewees wat deur die redding van siele gevolg is. Hierdie reël geld vandag nog steeds, en kan nie deur publisiteit en menslike pogings vervang word nie.

‘n Gemeente wat waarlik groot wil wees in die oë van die Here, wy homself ten volle aan die Here toe. Hy onttrek homself van die wêreld en sy modes en giere. Sy lede lei ‘n afgesonderde lewe en het geen plek vir wêreldsgesindheid en menslike aspirasies nie. Hulle lojaliteit lê by die Here, by sy Woord en by sy kerk.

Vrae en Antwoorde

Die volgende vrae en antwoorde het op die behoefte aan heiligmaking in die kerk van Christus betrekking:

1. Wat is die kerk?

Dit is die liggaam van Christus (Kol. 1:18, 24; 1 Kor. 12:27). Dit is die liggaam van gelowiges wat uit baie lede bestaan (Rom. 12:5). Dit is ‘n woonplek van God (Ef. 2:22).

2. Hoe word ‘n mens ‘n lid van God se kerk?

Jy moet uit die Gees van God gebore word (1 Kor. 12:13; Ef. 2:18-22). Net op hierdie manier word jy ‘n ware Christen. Let asseblief daarop dat niemand deur kerklidmaatskap alleen gered kan word nie (Ef. 2:8-9). Dit is slegs op grond van jou redding dat jy ‘n lid van die kerk van die lewende God word.

3. Hoe kan ‘n mens weer uit die kerk van God gaan?

Deur te sondig en terug te val (1 Joh. 3:6-10).

4. Wat is die doel van die kerk?

a.   Om ‘n kollektiewe groep in staat te stel om te doen wat vir ‘n individu prakties onmoontlik is, bv. om sendelinge oorsee te stuur.

b.   Om die lede op te lei en toe te rus (Ef. 4:12).

c.   Om andere te bedien (Hand. 6:1-3; Matt. 20:26-28).

d.   Om te evangeliseer (Mark. 16:15).

e.   Om die Woord van God te leer (Hand. 4:18-20; 2:42; 2 Tim. 2:2).

f.     Om die gelowiges te bemoedig (Heb. 10:24-25).

g.   Om vrugte te dra (Joh. 15:2, 5, 8; Hand. 2:41).

h.   Om die gelowiges te vermaan (Heb. 3:13; 10:25).

i    Die kerk moet die lewens van andere raak!

5. Hoe kan die kerk se rol vervul word?

a.   Daar moet ‘n begeerte onder lede wees om aan die koninkryk van die hemel te bou.

b.   Elke lid moet met die Heilige Gees vervul wees om werklik doeltreffend te kan wees (Sag. 4:6). Die Nuwe Testamentiese kerk was ondoeltreffend totdat dit met die Heilige Gees vervul is. Dink maar aan Petrus se lewe voor en ná Pinksterdag (Matt. 26:69-75; Hand. 2).

c.   Daar moet eenheid wees. Die Nuwe Testamentiese kerk was nie vervul voordat hulle eendragtig was nie – toe was hulle doeltreffend (Hand. 2:1-4, 41).

d.   Lewens van geloof moet gelei word (Gal. 3:26; Rom. 1:17; 1 Joh. 5:4).

e.   Daar moet ‘n visie wees van wat om te doen en hoe om dit te doen (Spr. 29:18).

f.     God moet toegelaat word om die leiding te neem (Spr. 3:5-6).

g.   Dit is soms goed om ongelukkig oor die huidige toestand in die kerk te wees – veral as dinge nie reg werk nie. Verandering ter wille van verandering net omdat dit deur sekere mense [of in ‘n boek] voorgestel word, is nie altyd wys nie. Slegs ‘n verandering van geestelike ondoeltreffendheid na geestelike lewe, krag en vrugbaarheid is aanvaarbaar.

h.   Die prediker en die gemeente behoort dieselfde oortuiging te hê oor wat gedoen en hoe dit gedoen moet word. Baie gebed is noodsaaklik. Goeie kommunikasie en die bereidwilligheid om te gee en te neem vir die uiteindelike verwesenliking van God se plan, is noodsaaklik. Die bereidwilligheid om die leraar óf ‘n gewone lid se eie program ter wille van God se plan op te offer, kan baie help om geestelike vooruitgang te verseker.

i.     Onthou altyd dat al die eer vir vooruitgang net aan God toekom – nie aan ‘n mens nie (2 Kor. 10:17).

6. Hoekom moet ‘n mens kerk toe gaan?

a.   Die Bybel beveel dit (Heb. 10:25).

b.   Om God te dien en van Hom te hoor (Ps. 122:1, 4).

c.   Om vir jou daaglikse lewe uit God se Woord te leer (Hand. 15:35; 1 Kor. 1:21; Titus 1:3).

d.   Om die liggaam van Christus toe te rus en te vermaan (Ef. 4:12; Heb. 10:25).

e.   Om vir ander ‘n voorbeeld te stel, want niemand van ons behoort net vir homself te leef nie (Rom. 14:7; 1 Tim. 4:12). Terwyl ons ander help, trek ons ook self voordeel uit die feit dat ons in die kerk is.

7. Wat is die kenmerke van ‘n Geesvervulde kerk?

a.   Dit is aan Christus onderworpe (Ef. 5:24).

b.   Dit het geestelike krag. Daar is ‘n aanvoelbare teenwoordigheid van God in die eredienste, en dit is in die lewens van die lidmate werksaam (Hand. 1:8; 1 Thess. 1:5).

c.   Evangelisasie word onder die verlorenes gedoen (Mark. 16:15).

d.   Dit het ‘n bediening ten opsigte van die behoeftes van andere (Matt. 20:26-28; Hand. 6:1-3).

e.   Daar is eenheid en harmonie (Hand. 1:14; 2:1, 46; 5:12; Ps. 133:1).

f.     Dit reel spanwerk om sy funksies uit te voer (Ef. 4:11-16; Rom. 12:4-8).

g.   Dit leer en bevorder Bybelse beginsels en waarhede. ‘n Geesvervulde kerk sal nie ‘n situasiegebonde en pragmatiese etiek aanvaar oor sake waaroor die Bybel duidelik uitgesproke is nie. Omstandighede en mense bepaal nie die korrektheid of verkeerdheid van ‘n saak vir die kerk nie. As God se Woord ‘n uitspraak daaroor gee, wie is die sterflike mens [of die kerk] om dit te weerlê en te verander? (1 Kor. 14:37; 2 Kor. 10:12; Gal. 1:9-12; 2 Tim. 3:16-17).

h.   Daar word baie gebed deur sy lede gedoen (Hand. 1:14; 6:4; 12:5, 12).

i.     Dit het ‘n liefde vir God én vir die mensdom (1 Joh. 5:1-2; 4:7-8).

j.     Dit is afgeskeie van die wêreld in terme van lewenstyl, waardes, geloof en beginsels (Hand. 2:40; Rom. 12:2; 2 Kor. 5:17; 6:17).

k.   Dit verhoog die Here Jesus en erken Hom as die Seun van God wat vir die sondige mensdom gekruisig is, wat uit die dood opgestaan het en nou vir ons intree, wat vir ewig lewe en weer terugkom om sy kerk te kom haal (Hand. 4:33; 5:29-32; 1 Joh. 2:22-24; 4:2-3; 5:6).

l.     Dit het geloof in God en sy Woord (1 Joh. 5:4).

m. Dit rus sy lidmate toe (Ef. 4:12).

n.   Dit het ‘n begeerte om versadig te word (Matt. 5:6).

8. Noem die gevolge van ‘n gebrek aan Geesvervulling in die belydende kerk

a.   ‘n Gebrek aan gebed.

b.   ‘n Gebrek aan Bybelstudie en die kennis van God se Woord.

c.   ‘n Gebrek aan geestelike krag.

d.   ‘n Lou geestelike toestand.

e.   Die gebrek aan ‘n houding van aanbidding.

f.     ‘n Gebrek aan sterk persoonlike oortuigings.

g.   Die neiging om jou eie besluite te neem en deur te voer, in plaas van God se wil.

h.   Die weiering om die volle evangelie te leer en te verkondig.

i.     Die afskaling van geestelike standaarde.

j.     Praat oor alles behalwe geestelike sake.

k.   Skinder.

l.     ‘n Gebrek aan belangstelling om God se wil vas te stel en dit te doen.

m. Ongereelde kerkbywoning.

n.   ‘n Vorm van godsdiensbeoefening waarin daar geen ontmoeting met die Here is nie.

o.   ‘n Gebrek aan eerbied in die kerk.

Dit lyk of die kerk kragteloos is. Dit is nie sterk genoeg om ‘n godgegewe sonde-oortuiging oor sondaars af te bid, of die oortuigings wat Christene elke dag nodig het nie. Die kerk het gevolglik verval in ‘n toestand waarin hy probeer om dinge op sy eie manier te verklaar, en daardeur gee hy implisiet die reg aan sy lidmate om te doen wat reg is in hulle eie oë. Die houding is: “Wie is ek om aan hom of haar te vertel wat reg of verkeerd is?” Die kerk het nie meer die geestelike krag om godgegewe lig oor ‘n saak af te bid nie. Die gevolg is dat standaarde oor verskeie sake afwaarts aangepas word.

9. Wat behoort gedoen te word om die kerk geestelik meer lewendig te maak?

a.   Onthou die boodskap van Sagaria 4:6 en volg dit na.

b.   Lees, bestudeer en volg die Woord van God na.

c.   Honger en dors na die geregtigheid.

d.   Vra die Here vir ‘n nuwe aanraking met krag uit die hoogte.

e.   Raak ernstig met die Here.

f.     Lei ‘n lewe van geloof.

g.   Moedig individuele én groepsgebede aan.

h.   Moenie net oor ‘n geestelike herlewing praat nie, maar handel daarvolgens!

i.     Verwyder alle sondige gewoontes wat dalk in die kerk ingekruip het.

j.     Soek, vind en volg God se wil.

Die kerk is die liggaam van Christus. Hy is die hoof, en die liggaam moet vrug vir sy koninkryk dra. Die wêreld word deur sonde verduister, maar as die kerk met die Heilige Gees vervul is, sal dit tot eer van die Here die lig van die wêreld wees. Sonder die Heilige Gees se krag sal die kerk geestelik swak wees. Dit is vir die kerk – individueel én kollektief – om te besluit waar hy staan!

DIE KERK VAN GOD

Die kerk van God het sy ontstaan by die skepping, dit is ingestel ná die kruisiging en die uitstorting van die Heilige Gees, dit is geïnspireer deur die bloed van die martelare en is bestem om in die wegraping opgeneem te word. Dit is die kragtigste, rykste, vreedsaamste, hardwerkendste en vrygewigste organisasie in die wêreld.

Haar lidmate is koninklik weergebore, ‘n hoë adelstand, en hulle vorm deel van die mees verhewe samelewing wat daar ooit was. Daar is nie een sondaar in die kerk nie en nie een heilige daarbuite nie. Sy het meer huise gered, meer slawe vrygemaak, meer naaktes geklee, meer hongeriges gevoed, meer dors geles, meer donkaards nugter gemaak, meer tronke leeggemaak, meer siekes gesond gemaak, in meer behoeftes voorsien, meer toorn laat bedaar en meer konflikte opgelos as wat enige regering, polisiemag, welsynsorganisasie, spitsberaad of gewapende mag ooit gedoen het.

Haar banier wapper ver bokant die vlae van die beroemdste nasies en beskawings. Haar fondament is die sekerste en mees standvastige in die ganse heelal. Sy het meer verdrukking verduur, meer storms beleef, meer aanvalle weerstaan en meer antagonisme ervaar as enige ander organisasie – nogtans troon sy hoër as ooit bokant die besoedeling van die verdorwe wêreld uit.

Haar lede is die reinste, heiligste, vreedsaamste, nederigste, lankmoedigste en gasvryste mense, en tóg is hulle die mees gevreesde in die stryd, die gedugste vegters, die mees vasberade, gehardste en opofferendste mense wat daar ooit was. Hulle is verskeur deur leeus, het gesterf op pynbanke, en brandstapels, hulle het omgekom deur steniging, deur die swaard, deur koeëls en deur marteling. Wanneer die doodsengel hulle gefolterde en verminkte liggame opgeëis het, het hulle lofliedere tot die eer van hulle Skepper en Verlosser gesing.

In haar struktuur word die mees bevoorregte mense aangetref, die beste kanse op vooruitgang, die hoogste beloning vir arbeid, die grootste geleenthede vir diens, die wydste verskeidenheid loopbane, en die beste sekuriteit in enige organisasie.                         – The Church Herald

 

9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms

Sleutelteks:

"En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is" (1 Joh. 3:3).

Sentrale waarheid

Die lewe van die gelowige moet gekenmerk word deur heiligmaking as hy vir die wederkoms van Jesus Christus gereed wil wees.

Les

1 Thessalonicense 5:8-11, 22-24

8 Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.

9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus

10 wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.

11 Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen…

22 Onthou julle van elke vorm van kwaad.

23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!

24 Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.

2 Petrus 3:10-14

10 Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.

11 Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? –

12 julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.

13 Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.

14 Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.

1 Johannes 3:1-3

1 Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.

2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.

3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

In die vorige les is dit beklemtoon dat heiligheid ‘n fundamentele voorbereiding vir Christelike diens is. ‘n Mens kan nie sonder geestelike voorbereiding die geestelike take uitvoer wat God aan jou opgedra het nie. Daardie voorbereiding behels bekering van sonde, versoening met God deur die geloof, en reiniging sodat jy “’n voorwerp tot eer [kan] wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk” (2 Tim. 2:21). Jesaja het dieselfde beginsel vir aanvaarbare diens aan die Here neergelê: “Reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die Here!” (Jes. 52:11). Die Here Jesus het hierdie waarheid beklemtoon nadat Hy die Groot Opdrag aan die dissipels gegee het. Hy het “hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het” (Hand. 1:4). Hy het hulle ook bevel gegee: “Julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:49).

In hierdie les handel die skrifaanhalings oor die feit dat volkome heiligmaking die gepaste geestelike voorbereiding vir die wederkoms is, wanneer die Here Jesus diegene sal wegraap wat rein van hart is. Dit is opvallend op hoe baie plekke in die Bybel die essensiële verband tussen morele reinheid en die wederkoms van Jesus Christus prominent genoem word. ‘n Paar van daardie plekke word in hierdie les in oënskou geneem.

1. Die regte voorbereiding (1 Thessalonicense 5:8-11)

Laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan (v. 8). Die gelowige word hier as ‘n soldaat voorgestel wat bewapen en reg vir die stryd is. In Efésiërs 6: 11-17 word die Christelike wapenrusting in groter detail bespreek, waar melding van sowel ofensiewe as defensiewe toerusting gemaak word. In hierdie vers noem Paulus die verdedigingswapens wat tot die beskikking van die Christen-soldaat is. Dit kan ook met die beeld in Romeine 13:12-14 in verband gebring word, waar hy daarop aandring dat Christene hulleself met die Here Jesus beklee. Dit kom ook daarop neer dat ‘n mens jou met die wapens van die lig beklee. Paulus se vermanings impliseer die waaksaamheid en militêre presisie van ‘n soldaat van Jesus Christus.

Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry (v. 9). Die gelowige se karakter, as ‘n goeie krygsman van Jesus Christus, moet in die lig van sy heerlike bestemming gesien word. Die gelowiges is nie net die kinders van die lig nie, hulle sal nie net die oordele van die dag van die Here ontvlug nie, maar hulle is ook bestem om die ewige saligheid deur Jesus Christus te verkry. Die ewige saligheid is die voorsiening wat God vir die mensdom gemaak het, vir wie ook al dit wil aanvaar.

Wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe (v. 10). Christus alleen is ons hoop op verlossing en onsterflikheid. Vir die Christen wie se hart op Christus gevestig is, maak dit nie regtig saak of hy lewe en of hy sterwe nie, omdat dit geen verskil aan die salige hoop maak dat ons saam met Hom sal leef nie. Ons kan dus die slegste in die gesig staar wat hierdie wêreld vir ons het, selfs ook die dood, in die onwankelbare oortuiging dat, of ons lewe en of ons dood is wanneer die Here Jesus kom, ons een met Hom in die ewige lewe sal wees. Soos ons gelykvormig is aan die dood wat Hy vir ons gesterf het, is ons ook deelgenote van daardie lewe waarmee Hy die dood oorwin het.

Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op (v. 11). Die gelowiges word tot die unieke bediening opgeroep om mekaar op te bou en te bemoedig. Die woord “bemoedig” beteken hier “aanspoor”. Paulus gebruik die woord “bemoedig” meer as 50 keer in sy sendbriewe. Die Christene word egter ook aangemoedig om mekaar in die geloof “op te bou”. Die Thessalonicense was reeds hierby betrokke – soos julle ook doen – en het net groter aansporing by Paulus gekry om dit met meer ywer te doen. As ons almal maar dié ywer ten opsigte van mekaar se bemoediging en geestelike opbouing gehad het!

2. Onberispelike bewaring (1 Thess. 5:22-24; 2 Petrus 3:10-14)

Onthou julle van elke vorm van kwaad (v. 22). Die implikasie is dat ons nie net dié dinge sal vermy wat boos lyk nie, maar onsself “van elke vorm van kwaad” sal onthou. Daar is baie vorms van boosheid wat Satan en sy medewerkers in só ‘n skadelose en selfs noodsaaklike vorm aanbied, dat baie daardeur mislei word. Ook hierdie vorms van die kwaad moet onderskei, verstaan en vermy word. Wanneer die keuse tussen twee vorms van boosheid is, moet ons albei verwerp. Moenie die geringste van twee euwels kies nie!

En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak (v. 23). In reaksie op die mens se verantwoordelikheid in die krisisondervinding van heiligmaking, naamlik volkome toewyding, doen God wat net Hý kan doen: Hy maak jou volkome heilig. God kan nie die toewyding namens jou doen nie, en jy kan ook nie jouself heilig nie. “Volkome heiligmaking” dui op die oombliklike werk van reiniging, terwyl “onberispelik bewaar” op die Here se voortgesette werk van bewaring dui ná die oombliklike daad waarin Hy ons deur en deur gereinig het. Gees en siel en liggaam is ‘n aanduiding dat alle aspekte van die mens in ‘n toestand van onberispelikheid moet kom en daarin bewaar moet word. Dit is opvallend dat "foutloosheid” nie hier vereis word nie. Die heiliges moet onberispelik bewaar word [tot] by die wederkoms van onse Here Jesus Christus. Judas sê dat die Here “magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel” (Jud. 1:24). Ons word nou onberispelik “bewaar”, maar sal by die wederkoms, in ons verheerlikte liggame, sonder gebrek [m.a.w. foutloos] aan Hom voorgestel word.

Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen (v. 24). Dit is God wat mense tot heiligheid geroep het (1 Thess. 4:7). Omdat Hy getrou is, sal Hy doen wat mense nie self kan doen nie – Hy sal hulle volkome heilig maak. Diegene wat nie die ervaring van volkome heiligmaking het nie [dit is hulle wat nie ‘n bruilofskleed van geregtigheid het nie] sal sprakeloos wees wanneer hulle van die bruilofsmaal van die Lam af weggewys sal word.

Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag (2 Pet. 3:10). God is lankmoedig en genadig om die wederkoms van Jesus Christus te vertraag. Hy het egter nie hierdie gebeurtenis gekanselleer soos wat sekere spotters in die ou tyd, asook van die moderne kritici, as ‘n verklaring vir die vertraging aanbied nie. Hierdie gebeurtenis is nog steeds op God se kalender en sal, soos die eerste koms, in “die volheid van die tyd” plaasvind (Gal. 4:4). Die hoofgedagtes wat hier uitgedruk word, is duidelik: 1. Christus se wederkoms is seker, hoewel nog toekomstig; 2. Dit sal skielik en sonder waarskuwing plaasvind; en 3. Dit sal met groot, apokaliptiese rampe gepaard gaan.

Hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? (v. 11). In die lig van die verganklike wêreld moet ons dinge doen wat ewigheidswaarde het deur heilig en godvrugtig te leef. God stel ons genadiglik hiertoe in staat deur in ons te werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Fil. 2:13).

Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas (v. 12-13). Daar lê vir hierdie wêreld ‘n oordeel voor soos wat dit nog nooit beleef het nie – ‘n oordeel deur vuur. Hierdie vurige wraak sal net ‘n voorsmaak van die ewige oordeel van die goddelose in die vlamme van die hel wees. Diegene wat in God glo, kan egter vooruit kyk na die belofte van ‘n heerlike toekoms in die nuwe hemel en op die nuwe aarde: Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.

Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede (v. 14). Hierdie vermaning is vir ‘n vreedsame en onberispelike lewe. Diegene wat die nuwe hemel en nuwe aarde verwag waarin geregtigheid sal woon, moet nóú reeds vir daardie lewe voorberei word. Omdat net geregtigheid daar sal woon, moet ons onsself van alle ongeregtigheid reinig. Die beklemtoning van Petrus is dieselfde as dié wat ons in Hebreërs 12:14 aantref: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.”

3. ‘n Reinigende hoop (1 Johannes 3:1-3)

Dat ons kinders van God genoem kan word! (v.  1). Om ‘n kind van God te wees, is die grondslag van “hierdie hoop” wat alle Christene volgens vers 3 op die wederkoms van die Here Jesus het. Die wêreld wat nie die eise van God se Woord aanvaar nie, sal ook nie die eise en verwagtinge van die Christene aanvaar nie.

Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is (v. 2). Die hoop van die Christen is nog net gedeeltelik aan hom geopenbaar. Ons het nog nie ‘n volkome begrip van die aard van die verheerlikte liggaam wat ons sal kry nie, en ook nie van ‘n lewe wat nie aan tyd gebonde is nie. Ons aanvaar egter hierdie beloftes in die geloof. In dié teks is daar drie dinge waarvan ons baie seker kan wees: 1. Christus sal verskyn; 2. Ons sal soos Hy wees, en 3. Ons sal Hom sien soos Hy is.

Elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is (v. 3). Iemand wat hierdie hoop op die koms van Jesus het, sal reinheid nastreef. Hy sal op die bloed van Jesus vertrou om sy hart en lewe van alle sonde te reinig. ‘n Hoop wat nie na reinheid lei nie, is nie ‘n ware hoop nie, maar slegs ‘n aanname. Iemand wat onverskillig en sondig leef, het geen hoop op Christus se wederkoms nie, maar hy vrees dit eerder. Die uitdrukking “reinig homself” dui op die mens se verantwoordelikheid van afsondering en toewyding. Die reiniging self is ‘n werk wat net deur die Here vir ‘n gehoorsame Christen gedoen word.

Kommentaar oor die Sleutelteks

En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 3:3).

Hierdie hoop verwys na die vorige vers: “Ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees.” By die verskyning van Jesus Christus sal al die Christene se liggame verander word ”om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:21), maar hulle huidige geestelike toestand sal na die verheerlikte sfeer oorgedra word. In die lig hiervan moet “die regverdige nog regverdiger word, en die heilige nog heiliger” (Op. 22:11).

Elkeen… reinig homself soos Hy rein is (v. 3). Dit is sekerlik ‘n hoë standaard van Christelike reinheid. Heiligheid is oorspronklik in God en word aan ons toegereken, sodat ons in werklikheid die heiligheid van ons Verlosser het. Johannes waag dit om te sê dat ons rein is “soos Hy rein is.” Hy kán hierdie vrymoedige stelling maak, omdat dit God is wat die reiniging doen. Dit is as gevolg van dié goddelike reiniging dat ons soos Hy sal wees (Beacon Bible Comm.).

Hoewel die Christen nie iets doen wat hy weet wat verkeerd is nie, is daar ‘n reinheid van lewe wat hy nie onmiddellik verkry nie. ‘n Rein hart word onmiddellik aan hom gegee as ‘n besliste werk van God se genade. Reinheid van lewe is egter progressief en bestaan uit ‘n daaglikse proses van minder word in sekere opsigte en meer word in ander opsigte. Dit is God se werk om ons harte rein te maak, maar dit is die mens se verantwoordelikheid om sy lewe onder die leiding van die Heilige Gees reg te maak. Die psalmis het die vraag gevra en ook self beantwoord: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord” (Ps. 119:9). Deur boosheid te vermy en die goeie aan te hang, deur nie dié dinge lief te hê wat in stryd met die geregtigheid is nie, deur in die lig te wandel wat aan jou geopenbaar is, vind jy as ‘n geheiligde persoon dat die Here jou steeds in ‘n intiemer verhouding met Homself lei. Verlossing plaas jou op die vaste fondament, Jesus Christus, maar elkeen moet oppas hoe hy hierop bou. Met ‘n hart wat reingemaak is, is hy wat geheilig is in ‘n ideale posisie om ‘n Christelike karakter te ontwikkel, omdat ‘n heilige hart ‘n heilige lewe genereer. Wanneer God elke mens se werk op die proef stel, sal net dit wat heilig is die vuurproef kan deurstaan.

Wanneer die Here ons harte gereinig het, is dit ons verantwoordelikheid om onsself in die liefde van God te bewaar. Dit beteken nie dat ‘n mens jou eie hart moet reinig nie, want dit is onmoontlik; maar jy moet jouself in die toestand van reinheid bewaar waarin die Here jou gestel het. Dit is waarom Paulus ook aan Timótheus gesê het: “Hou jou rein” (1 Tim. 5:22).

Indien die sleutelteks in verband met die werk van hartsreiniging staan, moet onthou word dat net God die mag het om die hart te reinig. Daarna is dit die mens se verantwoordelikheid om sy lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God te stel, saam met Christus gekruisig te word (Gal. 2: 20) en deur die geloof vir God toe te laat om sy tempel te reinig. Die Christen reinig homself dus deur met God saam te werk om hierdie groot werk van genade in hom te doen.

Reinig my van elke sondige vlek:

Laat alle afgode uit my lewe verdwyn:

Reinig my van sondige gedagtes,

Van die verdorwe eie-ek en van hoogmoed.

Met die haat van die vleeslike natuur

Wat uit my binneste verwyder is:

Gee my ‘n sagte hart wat rus in U,

Rein, en vol van geloof en liefde.

O, dat ek nou, van sonde vrygemaak,

U Woord in elke opsig sal bevestig:

My siel, gaan in jou beloofde rus,

Die Kanaän van volmaakte liefde!

Leerstellige Bespreking

Dit is wenslik om die waarheid van die wederkoms te bevestig voordat ons die vereistes stel vir dié groep wat met die Here verenig sal word.

"Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees" (1 Thess. 4:15-17).

Die vraag of ons hemel toe sal gaan wanneer die Here kom, hang daarvan af of ons weergebore is en in die lig wandel. “As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:7).

Daar is heiligheid nodig om hemel toe te kan gaan. Die Here het dit in Hebreërs 12:14 duidelik gestel dat heiligheid die paspoort na die hemel is, en dat niemand Hom sonder dit sal sien nie.

Baie teoloë sal nie die noodsaaklikheid van heiligheid ontken nie, maar daar is groot verskille in hoe hulle oor die saak dink. Een van die leringe is dat aangesien ons nie is wat ons moet wees nie, het God ‘n plek voorberei waar ons deur vuur van die oorblywende sonde gereinig sal word. Dié mense moet maar hulle stelling probeer versoen met die Bybelse uitspraak dat ons deur die verdienste van die bloed van Christus gered word, en dat dit van geloof afhanklik is (Ef. 2:8).

‘n Ander groep stem saam dat ons heilig moet wees, maar sê dat dit eers by ons dood sal gebeur! Aangesien die dood die vyand van die Christen is, is dit ondenkbaar dat God hierdie medium sal gebruik om die werk van volkome heiligmaking te doen. As die Here dit by ons dood kan doen, kan Hy dit dan nie nóú ook doen nie?

In die sleutelteks word dit duidelik gestel dat ons deurlopend in ons lewens heilig moet wees: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” Die Griekse woord bevat die idee van morele reinheid in ons hart en lewe. Dit is in die teenwoordige tyd, en het die implikasie dat reinheid deurgaans gehandhaaf moet word.

As daar reiniging is, moet dit dan deur myself gedoen word? “O,” sê jy, “dit is nie evangeliese onderrig nie.” Kom ons ondersoek die saak ‘n bietjie verder. Die volgende tekste in hierdie sendbrief is oënskynlik in stryd met só ‘n stelling:

"…die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde" (1:7).

"As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig" (1:9).

"Elkeen wat in Hom bly, sondig nie" (3:6).

"…en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof" (5:4).

Wanneer al hierdie gedeeltes saam in ag geneem word, kan ons net tot die volgende gevolgtrekking kom: Die enigste manier waarop ons onsself kan reinig, is om aan die Here Jesus en sy reinigende krag vas te hou. Ons kan ‘n baie bekende illustrasie gebruik, naamlik die was van ons hande met seep en water. Wat jy moet doen, is slegs om die seep en water met jou vuil hande in verbinding te bring en hulle te was. Jy was jouself, ja, maar is dit jý wat jou hande reinig, of die seep en die water? Ons moet die genademiddels gebruik wat die Here in Jesus Christus tot ons beskikking stel, dan sal ons rein word: “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen” (Jes. 1:16).

Die proses van voortgesette reiniging is ons verbindingskakel tussen nou en die toekoms. Ons morele reinheid maak ons gereed om, wanneer die Here kom, weggevoer te word Christus tegemoet in die lug, en vir altyd by Hom te wees. Hierdie skakel kan deur immoraliteit en onreinheid verbreek word, met die gevolg dat ons nie weggeraap sal word nie!

Uit 1 Johannes 3:1-3 blyk die voordele en verantwoordelikheid wat daaraan verbonde is om kinders van God te kan wees. Dit eindig in vers 3 met die volgende twee praktiese gevolge van kindskap:

1.   ‘n Aansporing tot reinheid. Elkeen wat die hoop het om in die lewe hierna vir Christus te sien en soos Hy te wees, sal noodwendig homself hier en nou reinig. Reinheid is een van die voorwaardes vir kindskap.

2.   Die standaard vir reinheid. Hierdie reinheid moet ‘n werklikheid word deur die reinheid van Jesus self – ons moet soos Hy wees. Die gedagte dat Hy gaan kom, en dat ons in die ewige lewe soos Hy sal wees, moet vir elkeen van ons ‘n aansporing wees om aan Hom gelykvormig te word.

Dit is belangrik om te besef dat die hoop van die evangeliese wêreld die wederkoms van Jesus Christus vir sy bruidsgemeente is. Nie een persoon wat ‘n liefdesverhouding het, sal weier om verander te word sodat hy ‘n meer harmonieuse verhouding met sy geliefde kan hê nie. Die ware kerk reinig haarself sodat sy gereed kan wees wanneer Hy verskyn. Die verhaal van die tien maagde is ‘n ernstige waarskuwing aan ons dat ons nie in ons waaksaamheid moet verslap nie. Ons sal daaraan moet werk om nie geestelik aan die slaap te raak en sodoende die wegraping mis te loop nie. Om gedurigdeur ons liefdesverhouding met die hemelse Bruiegom in stand te hou, is die grootste aansporing om rein te wees sodat ons weggevoer kan word om met Hom te wees wanneer Hy kom.

Vrae en Antwoorde

Hierdie les handel oor die belangrikheid daarvan om heilig te leef ten einde vir die wederkoms van Jesus Christus gereed te wees. Die volgende vrae en antwoorde het hierop betrekking:

1. Wanneer kom Jesus Christus terug aarde toe?

Niemand weet wanneer Hy terugkom nie. Daar was al baie mense wat datums bepaal het, maar hulle was almal verkeerd. Die Bybel maak dit baie duidelik dat niemand die dag of die uur van sy koms ken nie (Matt. 24:36). Dit is baie beter om ons tyd aan voorbereidings as aan die bepaling van datums vir die wederkoms te bestee.

2. Hoe sal dit op die aarde wees wanneer die Here Jesus terugkom? Wat is sommige van die tekens van sy koms?

Die Bybel identifiseer ‘n hele aantal tekens wat op die eindtyd dui. Hieronder is die volgende:

a.   Daar sal oorloë en gerugte van oorloë wees (Matt. 24:6).

b.   Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander (Matt. 24:7).

c.   Daar sal hongersnode wees (Matt. 24:7).

d.   Daar sal pessiektes wees [dit is dodelike, aansteeklike siektes] (Matt. 24:7).

e.   Daar sal aardbewings wees in baie plekke (Matt. 24:7).

f.     Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei (Matt. 24:11).

g.   Sonde en ongeregtigheid sal vermeerder en die liefde van die meeste laat afkoel (Matt. 24:12).

h.   Dit sal soos die tyd van Noag wees. Mense sal net vir die dinge van die wêreld leef en hulle glad nie aan die waarskuwings oor die naderende oordele van God steur nie. (Matt. 24:38-39).

i.     Dit sal ook soos in die tyd van Lot wees. Benewens hulle materialisme was die inwoners van Sodom en Gomorra aggressiewe homoseksuele (Luk. 17:28; Gen. 19:5).

j.     Die kerk sal lou wees (Op. 3:14-16).

k.   Baie kerklidmate sal net ‘n gedaante van godsaligheid hê, maar die krag daarvan verloën (2 Tim. 3:5).

l.     Mense sal net plesiersoekers wees (2 Tim. 3:4).

m. ‘n Lys van verskeie goddelose houdings en dade word in 2 Tim. 3:1-5 gegee.

Hierdie dinge klink baie na ‘n beskrywing van ons tyd. Lukas 21:28 sê dat wanneer hierdie dinge begin gebeur, ons ons hoofde moet ophef omdat ons verlossing naby is.

3. Waarom vertraag Jesus Christus sy wederkoms?

Die Here het die mensdom lief en wil nie hê dat een verlore moet gaan nie. Dit lyk of Hy sy koms vertraag het sodat ander gered kan word (2 Pet. 3:9). Ons weet dat God genadig en lankmoedig is (Ex. 34:6). Dit is ook moontlik dat die tekens van die tye nog nie almal ten volle vervul is nie.

4. Vir wie kom Christus terug?

Hy kom slegs vir hulle wat gereed is om Hom te ontmoet – dié wat gered en geheilig is. Volgens 1 Thessalonicense 4:16-17 sal dié wat in Christus gesterf het, wonderbaarlik uit die dood opstaan. Die Christene wat nog lewend op aarde is, sal dan saam met hulle weggevoer word, die Here tegemoet in die lug. Hartsreiniging, of heiligheid van hart, is ‘n moet vir hulle (Matt. 5:8; Heb. 12:14).

5. Wie sal met Christus se koms agtergelaat word?

Uit die aard van die saak sal die sondaars agtergelaat word. Die Bybel noem verskeie soorte sondaars wat sal agterbly:

a.   Dit is duidelik dat daar baie belydende kerklidmate is wat nie die wederbarende krag van die Heilige Gees en die reinigende krag van die bloed in hulle lewe ken nie. Hulle sal agterbly (2 Tim. 3:5; Matt. 7:21-23). ‘n Belydenis, asook goeie werke, is nie genoeg om dit vir die hemel te maak nie.

b.   Die onheiliges sal ook agterbly (Op. 20:6).

c.   Openbaring 21:8 maak ‘n lys van die vreesagtiges, ongelowiges, gruwelikes, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en leuenaars wat almal die wegraping sal misloop.

Goeie, morele mense wat nie wedergebore volgelinge van die Here Jesus is nie, sowel as geharde en wrede sondaars, sal almal agterbly. Dit is duidelik dat daar meer mense sal agterbly as dié wat sal saamgaan (Matt. 7:13-14).

6. Wat sal met diegene gebeur wat agterbly?

Hulle sal deur die groot verdrukking gaan (Matt. 24:21; Op. 3:10; 7:14). Verskillende vorms van die oordele van God sal in hierdie tyd oor die aarde uitgestort word. Daar sal ‘n verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nooit gewees het en ook nooit weer sal wees nie (Matt. 24:21). Dit sal onmeetbaar beter wees om weggeraap te word as om hierdie tyd van groot oordele te beleef.

God sal uiteindelik almal wat aan Hom ongehoorsaam was in die ewige verderf weg van sy aangesig af, verdoem (2 Thess. 1:8-9). Hulle sal in die hel gewerp word, en ná die eindoordeel in die poel van vuur (Op. 20:14-15). Die loon van die sonde sal die dood wees (Rom. 6:23).

7. Watter soort lewe vereis die Bybel van ons om vir die Here Jesus se wederkoms gereed te wees?

Die Bybel beveel ons om heilige lewens voor God te leef as ons Hom in die huidige wêreld wil behaag. Omdat ons nie weet wanneer ons sal sterf of wanneer Christus ons kom haal nie, moet ons altyd gereed en waardig wees om te gaan óf om te bly. Ons lewenswyse moet in albei gevalle presies dieselfde wees. Ons moet onberispelike, rein en heilige lewens van geloof en gehoorsaamheid voor die Here leef. ‘n Wisselvallige geestelike lewe is nie goed genoeg nie. Ons moet leef soos Hy wil hê dat ons moet leef – heilig – as ons verwag om in die hemel uit te kom.

Daar is verskeie skrifgedeeltes wat die lewe beskryf wat die kind van God by die wederkoms van Jesus moet hê (Matt. 5:8; 1 Thess. 5:23; Heb. 12:14; Luk. 21:34-36; Titus 2:12-13). Geen verandering in ‘n mens se geestelike status kan ná sy dood gemaak word nie (Op. 22:11). Ons moet ten alle tye gereed wees!

8. In Lukas 19:13 sê Jesus: “Dryf handel totdat Ek kom.” Wat sê dit oor ons lewenswandel in die huidige wêreld?

Volgens Mattheus 22:37 is dit ons belangrikste opdrag op aarde om die Here ons God lief te hê met ons hele hart en met ons hele siel en met al ons verstand. Ons moet God aktief liefhê en dien. Vers 39 sê dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet andere liefhê en hulle help om God ook lief te hê en te dien. Dit is ons twee grootste opdragte.

Ons moet daarop bedag wees dat Jesus se koms waarskynlik naby is. Ons moet altyd hiervoor gereed wees. Om handel te dryf totdat Hy kom, beteken dat ons moet voortgaan om ons verpligtinge teenoor God én teenoor mense na te kom asof dit nog ‘n lang tyd is voordat die Here terugkom aarde toe. Planne kan op die godsdienstige én sekulêre terreine gemaak word, en waarskynlik ook uitgevoer word. Ons moet liefde teenoor die mensdom betoon en die evangelieboodskap met hulle deel. Planne vir die uitbreiding van God se koninkryk moet gemaak en in werking gestel word. In ons daaglikse lewens moet daar orde en normaliteit wees terwyl ons ons verantwoordelikhede nakom. Nogtans moet ons nooit toelaat dat hierdie dinge belangriker as ons gereedheid vir die wegraping word nie. Ons sal ‘n gesonde balans moet vind, en nie só op die hemel ingestel wees dat ons niks meer hier op die aarde wil aanpak en doen nie. Ons moet andere help, en hulle moet in ons lewens die realiteit sien van wat dit is om die Here Jesus te dien en lief te hê.

9. Waarom sal die onheiliges daarvan weerhou word om die hemel te betree?

God is ‘n heilige God, en die hemel is ‘n heilige plek. Indien Hy onheiliges sou toelaat om daar in te kom, sou hulle die hemel in ‘n onheilige plek omskep. God haat sonde, en sy karakter weier om dit te verdra. Die planne vir verlossing én volkome heiligmaking is gemaak om die mens van sonde te verlos en hom vir die hemel geskik te maak. Verskeie skrifgedeeltes maak oor hierdie onderwerp uitsprake, bv. 1 Kor. 15:56-57; Lev. 11:44 en Titus 2:12-13.

10. Sal dit maklik wees om tot die einde toe getrou aan Jesus te bly? Kan ‘n mens gereed wees om Hom te ontmoet?

Dit sal nie maklik wees om getrou te bly nie. Lukas 18:8 sê: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” 1 Petrus 4:18 sê dat die regverdige nouliks gered sal word. Sonde sal meer intensief word namate Satan besef dat hy min tyd oor het. Die boosheid en ongeregtigheid neem geweldig toe. Sommige sondes is egter só subtiel dat dit vir Christene maklik is om daaraan toe te gee. Die druk neem oral toe – in die kerk, by die huis, by die skool, by die werk, in die woongebiede, in die sakewêreld, en net omtrent orals. Dit sal waarskynlik ook erger word.

Nieteenstaande hierdie dinge kan die kind van die Here oorwinnend bly! Beloftes soos dié in Filippense 4:19, 2 Korinthiërs 12:9, 1 Korinthiërs 10:13 en 1 Johannes 5:4 gee aan ons die moed en vertroue dat ons dit kán maak. “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam [die kruis] en deur die woord van hulle getuienis [belydenis], en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie [toewyding]” (Rom. 12:11).

Ons moet beslis goddelike lewens in hierdie goddelose wêreld leef. Die tekens dui op die spoedige koms van Jesus Christus. Ons moet gereed wees om Hom te ontmoet. Openbaring 2:10 sê: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.” Dit is moontlik om tot by die dood, of tot by die wegraping, ‘n heilige lewe te lei, wat ons dan in staat sal stel om vir ewig saam met ‘n heilige God in ‘n heilige hemel te woon!

GELOOF, LIEFDE EN HOOP

Laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid (1 Thess. 5:8).

Geloof, liefde en hoop, hierdie drie, vorm die verdedigende wapenrusting wat die siel beskerm en ook selfbeheersing moontlik maak. Soos ‘n duiker wat in sy duikpak na die dieptes van die wilde, sleurende oseaan neergelaat word, kan ‘n man wie se hart in geloof en liefde gewikkel is, en wie se kop met die helm van hoop bedek is, in die wildste see van versoekings en wêreldsgesindheid gegooi word, en tóg droog en ongedeerd deur die dieptes wandel terwyl hy lug inasem wat van ‘n wêreld ver bokant die rustelose golwe kom.

Geloof bring jou in verbinding met al die krag van God. Liefde lei jou na ‘n sfeer waar die valsheid en misleiding van versoekings in die lig van God se reinheid geopenbaar word. Hoop help jou om jou oë van die glans van die versoekings af weg te draai en dit op die heerlikheid van die hemel daarbo te vestig. Jy sal oorwinnings behaal waarvan jy tevore nog net gedroom het as jy jou vertroue in Christus stel, Hom volkome liefhet en jou begeertes in die ewige dinge stel. Jy kan jouself beheer namate jy Christus toelaat om jou te beheer.                    – Alexander Maclaren

 

10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe

Sleutelteks

"Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring" (2 Kor. 7:1).

Sentrale waarheid

Heiligheid van hart berei ‘n mens voor om rein en heilig in ‘n onrein wêreld te leef.

Les

2 Korinthërs 6:14-18

14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?

15 En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?

16 Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

17 Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;

18 en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.

1 Johannes 2:15-17

15 Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.

16 Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

1 Timótheus 2:8-10

8 Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.

9 So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie,

10 maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Die verskil tussen die gelowige en die ongelowige, die regverdige en die bose, die heilige en die onheilige, die godvresende en die wêreldsgesinde, is meer as blote name. Die verskil is basies dié van teenoorgestelde en antagonistiese nature.

Geregtigheid of heiligheid is die wesenlike natuur van God. Dit wat regverdig en heilig is, is in harmonie met die morele natuur van God. Dit wat sondig en onheilig is, is so omdat dit in disharmonie met die heilige, morele natuur van God is, en is dus antagonisties teenoor dit.

Sonde en wêreldsgesindheid is meer as net die willekeurige besluite van die mens – dit is die morele, etiese en geestelike eienskappe van sy natuur. Die uiterlike manifestasies daarvan is baie ernstig omdat dit die morele toestand van die persoon se natuur aandui, wat in vyandskap met God is (Jak. 4:4; Rom. 8:7).

Die vyand van God, van die kerk, van heiligheid en van geestelikheid doen alles wat hy kan, en gebruik ook almal wat met hom wil saamwerk, om elke instelling of invloed van die ware godsdiens te neutraliseer, ongeldig te verklaar en te vernietig. Die goddelike oproep gaan egter nog steeds uit vir reinheid en afsondering van die wêreld, wat deur heiligheid en godvresendheid weerspieël sal word, en wat sonde en wêreldsgesindheid as magte sal openbaar wat teen God is.

1. Afsondering in lewenstyl (2 Kointhiërs 6:14-18)

Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie (v. 14). Die verwysing hier blyk na die Ou Testamentiese verbod te verwys om ‘n os en ‘n donkie saam in te span, of om klere te dra wat van gemengde stowwe gemaak is. Hierdie verbodsbepalings op vermenging het ‘n dieper betekenis as ‘n blote ritueel of ‘n reël. Dit openbaar die onverenigbaarheid van dubbelhartigheid met die enkelvoudig heilige natuur van God. In hierdie gedeelte bepaal Paulus hoofsaaklik ‘n beginsel vir die huwelik, maar dit het ‘n baie wyer toepassing. Dit is ook net soveel op mans se belange en plesier van toepassing. Watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid? Dié kontras dui op die totaal onmoontlike. Gemeenskap tussen geregtigheid en ongeregtigheid is ‘n morele onmoontlikheid. Hierdie twee magte is inherent en absoluut in ‘n dodelike konflik met mekaar. Watter gemeenskap het die lig met die duisternis? Daar is geen gronde vir ‘n naasbestaan tussen lig en duisternis nie. Die een vernietig die ander een volkome.

Watter ooreenstemming het Christus met Bélial? (v. 15). Die term “Bélial” het in die Bybel op Satan betrekking. In Génesis 3:15 word die absolute antagonisme tussen Christus en Satan aangetoon. Dit beskryf die geweldige hou wat Satan gee in ‘n poging om die Seun van God wat uit ‘n maagd gebore is, te vernietig, maar dié hou het net die hakskeen van die Seun gewond. Dié hakskeen sal egter die kop van Satan vermorsel en hom doodmaak. Watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Geloof kan so min met ongeloof meng as wat lig en duisternis, of sonde en heiligheid, kan meng.

Julle is die tempel van die lewende God (v. 16). Die menslike persoonlikheid is basies geestelik. As sodanig is dit in ‘n bondgenootskap met een van die twee teenoorgestelde geestelike koninkryke in die wêreld. Die menslike gees word óf deur God óf deur Satan bewoon en beheer. Dit is ‘n byna ondenkbare eer en voorreg dat die lewende God aanbied om die menslike gees te bewoon (Ef. 3:16-19). Om die inwoning van die Here te hê, is om volkome vervulling te ervaar. Om Satan se afgode as gode te hê, is soos om as te eet en met niks vervul te wees nie (1 Kor. 8:4; Jes. 44:20). Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. Dit is wonderlik dat God gewillig is om met diegene te identifiseer wat vroeër sy vyande was. Die feit is dat Hy die inisiatief geneem het om die mens sy eie te maak deur hom te red en met hom te identifiseer deur die prys te betaal om hom vir Homself vry te koop.

Daarom, gaan onder hulle uit (v. 17). Dit is die belangrikste gevegsterrein. Indien jy aan die Here behoort en met Hom identifiseer, moet jy innerlik én uiterlik van identiteit verander. Dit is onmoontlik om terselfdertyd met God én met sy vyande te identifiseer wat teen Hom gekant is. Die werklike krisis is dus ‘n identiteitskrisis.

Julle sal vir My seuns en dogters wees (v. 18). Hier is nie van ‘n universele vaderskap sprake nie. Indien jy God as jou vader wil hê, moet jy eers vir die sonde sterf en volkome daarvan bevry word. Die Here, die Almagtige, kan hierdie wonderwerk vir jou doen.

2. Afsondering van begeerlikhede (1 Johannes 2:15-17)

Moenie die wêreld liefhê nie (v. 15). Hierdie vers verbied ons nie om die wêreld van mense lief te hê nie, want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Homself daarvoor gegee het. Ons moet óók die mensdom in die wêreld liefhê en vir God probeer wen. Die stelling om nie die wêreld lief te hê nie, is ook nie ‘n veroordeling  van die regte waardering en bewaring van die natuurlike wêreld nie. Nadat God die aarde geskape het, het Hy gesê dat dit “baie goed” is. Dit is nie verkeerd nie, maar ons plig, om lief te hê wat God liefhet. Die wêreld wat ons as Christene nie moet liefhê nie, is “die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4). Dit is die huidige toestand van vervreemding en opposisie teenoor God waarin die menslike lewe verval het. Dit kan verder gedefinieer word as die hele materialistiese en humanistiese stelsel van mense, plekke, instellings, ideale en plesier wat buite God georganiseer is, waarvan Hy uitgesluit is en waarin sy wil en werke geïgnoreer word. As iemand hierdie wêreldse stelsel wat vyandig teenoor God is, liefhet, dan kan hy God nie liefhê nie – en andersom.

Alles wat in die wêreld is (v. 16) word gedemonstreer deur die begeerlikheid van die vlees, wat die drang na sensuele bevrediging is, die begeerlikheid van die oë, wat die oorheersende passie is om alles te wil hê wat vir jou mooi is, en die grootsheid van die lewe, wat ‘n verhewe sin van jou eie belangrikheid as gevolg van jou rykdom en posisie is. Al hierdie ingesteldhede staan teenoor die natuur van God en dus ook teen ‘n werklike Christelike ondervinding.

Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig (v. 17). Enigiets wat wêrelds is, is tydelik. Morele en geestelike prestasies hou nie net in hierdie wêreld stand nie, maar ook in die volgende. Daar is geen vreugde wat vergelyk kan word met dit wat deur morele en geestelike dade ervaar word nie. Dit bring hier blydskap in die siel en sal ook die bron van ewige vreugde in die hemel wees.

3. Afsondering van versierings (1 Timótheus 2:8-10).

Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef (v. 8). Dit beteken dat oral waar mense saamkom om God te dien, of waar daar menslike behoeftes is, dit paslik is om te bid. Gebede uit groot katedrale en kerke is nie vir God meer aanneemlik as gebede wat in die nederigste kerkie of die armste huis gebid word nie. Gebed bring die hemel en aarde bymekaar en verseker geestelike én materiële seëninge wat nie sonder gebed verkry sou word nie (Matt. 7:7-8). God beperk nie die aanbidder tot een of ander uiterlike houding nie, maar stel besliste standaarde oor die karakter van die een wat bid. Die ophef van heilige hande dui op eerbied, ontsag, afhanklikheid, onderworpenheid en verwagting. Daardie hande moet nie deur onvergeefde sonde besmet wees nie, en die gees moet vry van afkerigheid en ‘n gebrek aan geloof in God wees. Die motiewe van die een wat bid, sowel as sy uiterlike handelinge, moet suiwer wees.

Die vroue moet hulle versier met behoorlike kleding (v. 9). God het sy houding teenoor naaktheid en onbehoorlikheid in die Tuin van Eden getoon toe Hy vir die eerste menslike paartjie klere gemaak het. Sedert die sondeval was daar ‘n regstreekse verband tussen onbehoorlike kleding en immoraliteit. Dawid se sonde is aangewakker toe hy na die naakte Bátseba gekyk het. Paulus stel die uitdaging dat aangesien die Here so baie in die Christene belê het, hulle Hom moet verheerklik in hulle liggaam én gees wat aan God behoort. Naaktheid en onbehoorlike kleding is ‘n skande vir ‘n persoon wat in dié toestand is, en ‘n belediging vir ‘n heilige God. Enige aktiwiteit waarvoor behoorlike kleding onwaardig is, is ook ‘n onwaardige aktiwiteit. Nie met vlegsels nie, m.a.w. uitspattige en dekoratiewe haarstyle. Hulle skoonheid moet nie deur oordadige hooftooisels en opgesmuktheid met juwele en fyn linne geskep word nie, maar deur hulle innerlike persoonlikheid – die onverwelklike skoonheid van ‘n stille en sagmoedige gees, wat kosbaar in die oë van God is. Christene moet eg wees, en nie kunsmatig deur kunsmatige bedekkings nie.

Soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely (v. 10). Dit is nie per toeval dat ingetoënheid en basiese skoonheid die kenmerke van Christene in die wêreld is nie. Dit is ‘n eer vir ‘n persoon én vir God indien andere hom vir ‘n Christen aansien. Dit sou beslis nie tot die eer van God of van ‘n Christen wees indien hy weens sy gedrag as ‘n sondaar beskou sou word nie. ‘n Persoon is ‘n verraaier as hy die vyand se kleredrag aan het. Dit is ‘n wonderlike voorreg om met God, die Bybel, heiligheid en heilige mense geïdentifiseer te word.

Kommentaar oor die Sleutelteks

Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring (2 Kor. 7:1).

Hierdie beloftes waarvan Paulus praat, word in die laaste paar verse van hoofstuk 6 genoem. Dit word aan weergebore mense gemaak, en is groot en kosbaar. Dit word gegee op voorwaarde dat God se kinders onder die ongelowige, sondige wêreld uitgaan, hulle afsonder, en nie aanraak wat onrein is nie (2 Kor. 6:16-18). “Hierdie beloftes” is: (1) Ek sal in julle woon. (2) Ek sal onder julle wandel. (3) Ek sal julle God wees. (4) Julle sal vir My ‘n volk wees. (5) Ek sal julle in ‘n vader-kind-verhouding aanneem.

Besoedeling van die vlees. Korinthe was ‘n baie losbandige stad, en die Christene daar is uit ‘n lae, vuil lewe gered. Miskien het sonde nie vir hulle so uitermate sleg gelyk as wat dit werklik is nie. Daar was gruwelike immoraliteit onder hulle (1 Kor. 5). In die lig hiervan is spesiale waarskuwings oor uiterlike sondes gegee waarin ‘n sondige gees van die liggaam gebruik maak, bv. afgodediens, dronkenskap, hoerery, owerspel, lastertaal, bakleiery, bedrog, ens. Deur hierdie vleeslike sondes te doen, word die liggaam én gees besoedel. Hoe meer hulle hierdie sondes gedoen het, hoe groter was die besoedeling. Verder is dit ook so dat hoe meer ‘n mens aan die hartstogte van die sondige vlees toegee, hoe sterker word die versoekings en hoe swakker die weerstand.

Omdat die liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is, moet sorg gedra word om skadelike gewoontes soos tabak- en alkoholgebruik, asook vraatsugtigheid, te vermy. Let asb. daarop dat die verantwoordelikheid by “ons” geleë is. Moenie van God verwag om alles vir jou te doen nie: “…laat óns ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig.”

Besoedeling van… die gees vestig die aandag op innerlike sondes. Dit is sondes van die hart of die gees. Dit word dikwels vleeslike neigings genoem. Hierdie toestand is die gevolg van die sondeval en bestaan ná ons bekering voort. Dit is nie soseer iets waarvan ons vergewe moet word nie, maar waarvan ons gereinig moet word. Sondes van die gees sluit in hoogmoed, kwaadwilligheid, toorn, jaloesie, begeerlikheid, wellus, bose gedagtes, ens. Hierdie neigings kan met gedeeltelike sukses beheer word deur ‘n sterk poging om hulle te onderdruk. Elkeen wat hierdie metode probeer het, kan ná ‘n tyd getuig dat dit soms nie moontlik was om die sondige neigings te onderdruk nie. Ons beste pogings om ons gees te reinig, is dus nie suksesvol nie. Ons moet saam met Johannes stem dat net “die bloed van Jesus Christus… reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:7). Die bloed is die reinigingsmiddel vir alle sonde. Neem daarvan kennis dat sonde nie ‘n deel van die menslike natuur is nie – dit is slegs ‘n diep vlek op daardie natuur, gevolglik kan dit gereinig word. Die Here Jesus het vir die uitdruklike doel na die aarde gekom om vir Hom ‘n heilige en rein volk te skep. Die reiniging deur sy bloed is die antwoord op Dawid se ernstige gebed: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o Here, my rots en my verlosser!” (Ps. 19:15).

Volbring die heiligmaking. Wanneer ons van ons onheiligheid ontslae raak, dan kan ons die heiligmaking in die vrees van God volbring. Jy moet eers van alle besoedeling van die vlees en die gees gereinig word voordat jy die heiligmaking kan volbring. Dit sal jou in staat stel om geestelik verder op te groei tot volwassenheid.

Leerstellige Bespreking

Afgesonderdheid is beslis een van die betekenisse van die Griekse woord hagiadzo. Dit is ‘n versoeking vir al God se afgesonderde kinders om  met die huidige wêreld vermeng te raak en hulleself sodoende vervolging te spaar. Heiligheidsmense verwerp soms maklik wat ‘n ander heiligheidspersoon sê. Die volgende is enkele uitsprake wat oor ‘n afgesonderde lewe gemaak is:

In sy boek “Letter to the Hebrews” sê William Barclay die volgende oor Hebreërs 11:13-16:

“Die vaders het vir altyd as vreemdelinge geleef. Die skrywer aan die Hebreërs gebruik drie duidelike Griekse woorde oor hulle: (a) In 11:13 noem hy hulle xenoi. Xenos is die Griekse woord vir ‘n vreemdeling of ‘n buitelander. In die antieke wêreld was die lotgevalle van ‘n vreemdeling baie moeilik, want hy is met haat en veragting aangesien. (b) In 11:9 gebruik hy t.o.v. Abraham die woord paroikein (vertoef, of tydelik woon, m.a.w. ‘n inwonende vreemdeling). ‘n Paroikos moes vreemdelingebelasting betaal omdat hy ‘n soort gelisensieerde inwoner was. Hy was altyd ‘n buitestaander, en alleen op grond van sy betaling ‘n lid van die gemeenskap. Die vaders het hulle hele lewe lank aan geen samelewings anders as hulle eie families behoort nie. (c) In 11:13 gebruik hy die woord parepidemos, wat ‘n bywoner of pelgrim is. In enige gemeenskap is ‘n bywoner of pelgrim iemand wat tydelik daar bly omdat sy permanente tuiste iewers anders is.”

Dit is sekerlik ‘n beskrywing van Christene wat vreemdelinge, bywoners en pelgrims op aarde is. Hierdie lewe is soos ‘n brug waaroor ons loop onderweg na ons ewige tuiste. Dit was nooit die bedoeling dat ons ons permanente woning op die brug moet bou nie! Christene is buitestaanders in hulle eie land, en ook in hulle wandel en gesprekke. Dit is waarom hulle afgesonderd lewe.

W.H. Griffith Thomas het gesê:

“Wat moet ons deur die uitdrukking die wêreld verstaan? Dit is nie die materiële wêreld nie, maar wêreldse instellings wat in opposisie teen God is (1 Joh. 2:15). Dit is die ekwivalent van wat die apostel Paulus 'die teenwoordige bose wêreld' noem (Gal. 1:4). Alles wat sondig is, word met die begrip 'wêreld' verbind."

Afgesonderdheid en heiligheid moet egter nooit as ‘n verskoning gebruik word vir ons versuim om in die wêreld vir die redding van siele te werk nie. Die heilige persoon sal, as hy sy heiligheid deur gebed, vas en gehoorsaamheid behou, van die wêreld geïsoleer wees sodat daar nie ‘n kortsluiting tussen hom en die wêreld is wanneer hy daarin beweeg om sy werk te doen nie. Liefde sal hom dring om in die wêreld uit te gaan en verlore sondaars na Christus toe te roep. Heiligheid is ons stand in die Here, en liefde die dinamiese en instaatstellende krag van die Heilge Gees wat ons tot aksie laat oorgaan en ook resultate laat behaal.

Heiligheid in ons harte is deur genade. Ware heiligheid sal sy eie afsondering van die wêreld bring. In ooreenstemming met die mate waartoe ons geestelik afkoel, sal ons weer liefhebbers en nabootsers van die wêreld word.

Vrae en Antwoorde

Hierdie les handel oor die onderwerp van afsondering deur ‘n heilige lewe. Jesus het in sy gebed in Johannes 17:15 gevra dat ons nie uit die wêreld weggeneem word nie, maar dat ons van al die bose dinge rondom ons bewaar sal word. 2 Korinthiërs 6:17 sê dat ons onsself van die wêreld moet afsonder. Die volgende vrae en antwoorde het op afsondering van die wêreld deur ‘n heilige lewenswandel betrekking:

1. Wat word deur situasionele etiek bedoel?

Dit is die filosofie dat daar weinig of enige uitdruklik regte of verkeerde antwoorde vir baie van die omstandighede is waarin ons kom. Die situasie of agtergrond van mense help bepaal of hulle aksies en reaksies regverdigbaar of verkeerd is. Daar is geen absolute waarheid nie. Die korrektheid of verkeerdheid van ‘n saak kan van een persoon tot ‘n ander, en van een situasie tot ‘n ander, en van een tydperk tot ‘n ander wissel. Menslike opinies is die belangrikste oorweging wanneer daar ‘n besluit oor iets geneem word.

2. Hoe pas situasionele etiek in die Christendom in?

In die hedendaagse kerke is daar baie mense wat deur hulle optrede, houdings en selfs woorde te kenne gee dat daar min, ef enige, voorskrifte in die Bybel is wat deur alle Christene in die wêreld gevolg hoef te word. Hulle houding is: Wie is daardie predikant, vriend of familielid om aan mense te sê wat God se voorskrifte vir spesifieke situasies in die lewe is? Die gevolg is dat daar van min bekeerlinge verwag word om hulleself op verskeie lewensterreine duidelik van die wêreld af te sonder – nie net in die eerste paar weke van hulle Christenskap nie, maar selfs ná maande of jare. Die idee word gehuldig dat ander mense nie die reg het om voorskriftelik op te tree nie. As gevolg van mense se beperkte kennis van die wil van God laat hulle hulself deur omstandighede lei. Ouer, belydende Christene praat selfs van “nuwe lig” wat hulle oor sekere sake gekry het. Hulle beweer dat God se Woord in die veranderde situasies en tye nie meer van toepassing is nie. Omdat die situasie mense se besluite en optrede bepaal, is daar uiteindelik geen verskil meer tussen die sondaar en die heilige nie. Hulle lyk almal dieselfde, en in baie opsigte tree hulle ook dieselfde op.

Die Bybel het egter duidelike uitsprake oor die saak van afsondering van die wêreld:

a.   1 Johannes 1:7 sê dat as ons Christene wil bly, ons in die lig moet wandel wat die Here aan ons gegee het. Die lig wat gevolg moet word, kom van God en nie van mense af nie.

b.   2 Timótheus 3:15-17 en Psalm 119:11 sê dat die Bybel aan ons voorskrifte kan gee oor hoe om voor God én die mense reg te leef. Psalm 119:105 sê dat God se Woord ‘n lamp vir ons voet en ‘n lig vir ons pad is. Dit is dus duidelik dat God se Woord baie oor die eise vir ‘n heilige lewenswandel te sê het. Dit het ‘n hoër gesag as ons eie opinies (1 Kor. 14:37).

c.   Jakobus 4:17 en 1 Johannes 3:6-10 dui aan dat ons God se reëls vir ons lewe moet volg – die moets én die moenies – anders leef ons in sonde. Ons moet die Bybelse riglyne vir ons lewe eerbiedig.

d.   Romeine 14:10-12 sê dat ons as individue voor die regterstoel van Christus sal staan om geoordeel te word. Waaroor sal ons geoordeel word? Vir die dinge wat ons in ons lewe gedoen het. God se Woord en die lig wat ons gehad het, sal die norm wees waarvolgens ons geoordeel sal word. Argumente dat dit reg gelyk het om iets te doen omdat ander dit ook gedoen het, sal nie op daardie dag goed genoeg wees nie (2 Kor. 10:12).

e.   Romeine 12:2 en 2 Korinthiërs 6:17 sê dat daar afsondering van die wêreld moet wees. Ons moet nie dink, optree, praat en aantrek soos die bose wêreld nie. Ons is anders! Waarom? Omdat God in ons woon en as ‘n heilige God vereis Hy heilige lewens van sy kinders.

f.     2 Korinthiërs 5:17 sê dat die Christene anders as die sondaars leef. Dit is nie slegs ‘n geval van belydenis nie, maar hierdie lewe moet ook besit en uitgeleef word.

g.   Exodus 23:2 sê: “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie.” In werklikheid maak dit nie saak hoeveel mense ‘n sekere ding doen, of dit nie doen nie. As dit reg is, is dit reg; en as dit verkeerd is, is dit verkeerd. Konformisme, of die weiering om te konformeer, maak nie ‘n saak reg of verkeerd nie.

Dit is klaarblyklik dat indien ‘n persoon heilig voor God én voor mense wil leef, hy God se reëls moet volg en nie die gewoontes en opvattings van mense nie. Vir die kinders van God is situasionele etiek ‘n gevaarlike norm om hulle lewens daarvolgens in te rig. God se Woord is onveranderlik en absoluut (Matt. 24:35; 5:18). Ons moet dit eerbiedig as ons God wil behaag!

3. Sekere van ons vrae word in die Bybel beantwoord. Op ander vrae is die antwoorde nie baie duidelik nie. Met dit in gedagte, watter riglyne moet ons in die keuses oor ons lewenswyse volg?

a.   Oortree dit die Woord van God?

b.   Oortree dit die lig wat God my gegee het?

c.   Bevorder of benadeel dit my verhouding met God?

d.   Bevorder of benadeel dit my invloed oor ander mense?

Indien iets God se Woord deur óf die Bybel óf sy lig aan ons oortree, moet ons dit nie doen nie. Ons moet ook weier om iets te doen of ‘n keuse te maak as dit ons verhouding met God sal benadeel of ons Christelike invloed sal laat afneem.

4. Wat is die verskil tussen algemene oortuigings en persoonlike oortuigings in verband met die regte Christelike leefwyse?

a.   Algemene oortuigings: Dit is godgegewe gedragsreëls wat vir alle mense geld, en word positief of negatief in die Bybel gekonstateer.

b.   Persoonlike oortuigings: Dit is godgegewe gedragsreëls wat net vir die persoon geld aan wie dit gegee is. Daardie persoon moet dit volg om in die regte verhouding tot God te bly. Hierdie oortuigings is nie op ander mense van toepassing nie en moet dus nie as reëls aan andere verkondig word nie.

5. Om die regte Christelike lewe te kan lei, moet ons die regte houdings, handelinge en voorkoms hê. Noem sommige van die algemene riglyne wat gevolg moet word.

Houdings

a.   Ons moet God volkome liefhê (Matt. 22:37).

b.   Ons moet ons medemens liefhê (Matt. 22:39).

c.   Ons moet deur die geloof lewe, selfs al voel ons nie geestelik nie (Heb. 11:6; Rom. 1:17).

d.   Ons moet God se vrede toelaat om in ons harte te heers (Kol. 3:15).

e.   Ons moet ‘n ingesteldheid van barmhartigheid, goedheid, nederigheid, lankmoedigheid en vergewensgesindheid hê (Kol. 3:12-13).

f.     Ons moet die wysheid van God hê wat rein, vredeliewend, vriendelik, onpartydig, vol barmhartigheid en ongeveins is (Jak. 3:17-18).

g.   Ons moenie ‘n vleeslike toorn, woede en boosheid hê nie (Kol. 3:8).

h.   Ons moenie bittere afguns en selfsug hê nie (Jak. 3:14).

i.     Ons moet vol ontferming wees (1 Pet. 3:8).

j.     Ons moet hoop en geduld hê (Rom. 12:12).

k.   Ons moenie die wêreld liefhê, of die dinge in die wêreld nie (1 Joh. 2:15).

l.     Ons moet die vrugte van die Gees hê (Gal. 5:22-23).

Handelinge

a.   Ons moet bid (Rom. 12:12).

b.   Ons moet gasvry wees en in die behoeftes van die heiliges voorsien (Rom. 12:13).

c.   Ons moet diegene seën wat kwaad aan ons doen (Rom. 12:19-20).

d.   Ons moet in andere se vreugde en leed deel (Rom. 12:15).

e.   Ons moet almal gelyk behandel met betrekking tot redding (Rom. 12:16).

f.     Ons moenie kwaad vir kwaad vergeld nie (Rom. 12:17).

g.   Ons moet eerlik wees (Rom. 12:17).

h.   Ons moet, sover moontlik, in vrede met alle mense leef (Rom. 12:18).

i.     Ons moet onsself nie wreek nie (Rom. 12:19).

j.     Ons moet ons vyande goed behandel (Rom. 12:20).

k.   Ons moet die kwaad deur die goeie oorwin (Rom. 12:21).

l.     Ons moenie in dieselfde juk saam met ongelowiges trek nie (2 Kor. 6:14).

m. Ons moet in ons lewenstyl afgeskeie van die wêreld wees (2 Kor. 6:17).

n.   Ons moenie aan die wêreld gelykvormig word nie, maar verander word deur die vernuwing van ons gemoed (Rom. 12:2).

o.   Die woord van God moet ryklik in ons woon (Kol. 3:16).

p.   Ons moet in woord en daad dinge doen wat God behaag (Kol. 3:17).

q.   Ons moet God se wil doen (1 Joh. 2:17) en Christus Jesus navolg (Kol. 2:6).

r.     Ons moet die oue mens aflê en ons met die nuwe mens beklee (Ef. 4:22-24).

s.   Ons moet aan God gehoorsaam wees en nie aan mense se nukke en grille nie (Hand. 5:29).

t.     Ons moet nie onder die hoereerders, homoseksualiste, diewe, gierigaards, dronkaards of kwaadsprekers tel nie (1 Kor. 6:9-10).

u.   Ons moenie op die dag van die Here koop of verkoop nie (Neh. 10:31).

v.    Ons moet die sabbat heilig hou (Neh. 13:15-22).

w.   Ons moenie steel of moord pleeg nie (Ex. 20:13, 15).

x.   Daar moet niks tussen ons en die Here wees nie (Ex. 20:3).

y.   Ons moenie God se Naam ydelik gebruik nie (Ex. 20:7).

z.   Ons moet ons ouers eer (Ex. 20:12).

Voorkoms

a.   Die vrouens moet behoorlik aantrek (1 Tim. 2:9)

b.   Die vrouens moet deur hulle goeie karakter gekenmerk word, eerder as deur uitspattige klere (1 Tim. 2:10).

c.   Die vrouens behoort lang hare te hê as ‘n teken van onderdanigheid (1 Kor. 11:15).

d.   Die mans moet kort hare hê (1 Kor. 11:14).

e.   Vrouens moet net vroueklere aantrek, om daardeur duidelik hulle geslag aan te toon (Deut. 22:5).

f.     Die mans moet om dieselfde rede mansklere aantrek (Deut. 22:5).

g.   Die vrouens word vermaan om deur ‘n stille en sagmoedige gees versier te wees ( 1 Pet. 3:3-5).

6. Watter houdings moet ons hê om die perke en aard van ons afsondering van die wêreld te bepaal?

a.   Nie my wil nie, maar God se wil moet geskied.

b.   Wees ontvanklik vir enigiets wat God sê. Moet nie jou hart verhard en onleerbaar wees nie.

c.   Streef daarna om naby aan die Here te leef en sy wil so nougeset as moontlik te doen.

d.   Indien daar onsekerheid oor iets is, gee aan die Bybelse riglyn die voordeel van die twyfel.

7. Waarom is daar so baie wêreldsgesindheid en bloedarmoede in die kerk vandag?

Dit lyk of mense die fokus om God lief te hê en te dien, verloor het. Baie van hulle is selfsugtig en neem ‘n houding in van: Dit wat my laat goed voel, sal ek doen! Groot getalle is ook plesier-behep. Ander is materialisties. Ongetwyfeld leef baie van die mense hierdie lewe as gevolg van ‘n gebrek aan gebed, Bybelstudie, en ‘n volle oorgawe om God se wil te ken en te doen. Wanneer die fokus weg van God en sy wil af is, is dit maklik om op dinge ingestel te raak wat in stryd met God se wil is. Geestelike swakheid tree in wanneer God deur die mens en sy programme opsygeskuif word. Die kerk waarin die krag van God ontbreek, is nie in staat om sonde-oortuiging oor verlore siele af te bid nie. Dit kan ook nie sterk oortuigings oor die Christelike lewe afbid en deur die prediking skep nie. Die algemene houding is dan dat elkeen sy eie saligheid moet uitwerk, en nie sy opvattings op ander moet afdwing nie. Hierdeur ontstaan daar binne-in kerke lewenstyle wat nie in ooreenstemming met God se Woord is nie. God kan nie, en Hy sal ook nie, sulke mense en kerke seën nie. Geestelike swakheid lei uiteindelik tot geestelike doodsheid.

Die Bybel moedig ons by herhaling aan om God te behaag (1 Joh. 1:7; Jak. 4:17; 1 Joh. 3:6-8). Ons moenie toelaat dat die beginsels van die wêreld die motiverende krag in ons persoonlike en kerklike lewe word nie. Dit moet ons vooropgestelde doel wees om onsself van die wêreld en van sonde af te sonder en ons met God en sy wil te verenig!

Die lewenswyse van ‘n Christen

Terwyl die Christen in die wêreld is, moet hy nie van die wêreld wees nie. Vir hom moet die lewe Christus wees. Of hy eet of drink of enigiets doen, moet hy alles tot die eer van God doen. Jy mag skatte bymekaarmaak, maar net in die hemel. Jy mag daarna streef om ryk te wees, maar dit moet jou doel wees om ryk in die geloof en in goeie werke te wees. Jy mag plesier hê; maar wanneer jy opgewek is, moet jy sing en psalmsing in jou hart tot eer van die Here. In jou gees sowel as in jou ideale moet jy anders as die wêreld wees. In jou dade moet jy afgesonderd van die wêreld wees. As iets reg is, al verloor jy ook daardeur, dan moet jy dit doen. As dit verkeerd is, selfs al kan jy daardeur wen, moet jy die sonde ter wille van die Here se naam verafsku. Wandel waardig van jou hoë roeping.                                                                         – C.H. Spurgeon

DIE DUIWE OP DIE KRAGDRAAD

Buitekant my venster is ‘n kragdraad waardeur ‘n hoë lading elektrisiteit vloei. Dit is noukeurig geïsoleer van elke paal, en ook buite die gewone bereik van mense. As ek daaraan sou raak, sou die dood vinniger as ‘n tier se sprong of die pik van ‘n giftige slang intree – dit sal so vinnig soos ‘n weerligstraal wees.

Tóg sit die duiwe op die draad sonder om enige skade te ly. Die geheim is dat, terwyl hulle aan die hoëspanningsdraad raak, raak hulle aan niks anders nie. Hulle is volkome aan die draad alleen oorgegee.

Vir my is die gevaar daarin geleë dat as ek ver genoeg uit my venster kon leun om die draad te raak, sou ek nog steeds deur die mure van my huis aan die aarde verbind wees. Die krag sou dan deur my liggaam ‘n kortsluiting met die aarde maak, en dit sou my lewe kos. Die duiwe rus egter geheel en al op die draad en verkeer in geen gevaar nie. Hulle is een daarmee en is veilig.

Die Here wil hê dat ons ons veiligheid in ‘n volle oorgawe aan sy krag en liefde moet soek. Dit is wanneer ons met die een hand aan Hom vashou en met die ander hand aan ‘n verbode ding van die wêreld, dat ons in gevaar verkeer. Christus het ons beveel om die Here onse God met ons hele hart, ons hele siel en met al ons kragte lief te hê. Geen dubbelhartigheid is aanvaarbaar nie. As ons dít doen, is ons veilig.                                                              – Pillar of Fire

 

11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings

Sleutelteks

"Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het" (Ef. 4:32).

Sentrale waarheid

Dit maak ‘n groot verskil in ‘n Christen se houdings wanneer hy met die Heilige Gees vervul is.

Les

Judas 1:20-25

20 Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid

21 en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.

22 En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys;

23 maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.

24 Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25 aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.

Filippense 2:14-16

14 Doen alles sonder murmurering en teëspraak,

15 sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,

16 deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ‘n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie.

Romeine 12:9-13

9 Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;

10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning;

11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here;

12 verbly julle in die hoop, wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.

13 Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Toe John Wesley ‘n stryd gehad het om sy geestelike verhouding met God en sy intellektuele verstaan van die Bybel op ‘n vaste grondslag te kry, het hy die raad van ‘n meer volwasse Christen oor ‘n lewe van totale afsondering gevra. Hierdie persoon het aan die jong Wesley gesê: “Seun, die Here weet niks van ‘n kluisenaarsgodsdiens nie.” Die Bybel is baie duidelik daaroor dat Christene nie hulle lig onder ‘n maatemmer moet verberg nie, maar die lig van die evangelie deur goeie werke moet laat skyn sodat die Vader verheerlik kan word. As die sout van die aarde moet hulle ook ‘n behoudende invloed op die morele standaard van die gemeenskap hê.

‘n Lig het sy grootste voordelige effek wanneer dit in die mees intense duisternis skyn. Sout is ook die nodigste waar die bederf op sy ergste is. Die heiliges se teenwoordigheid word veral benodig waar sonde en boosheid baie prominent is. Die Here wil nie hê dat Christene deur Fariseëragtige isolasie hulle hoop en pogings moet laat vaar om ‘n korrupte samelewing te evangeliseer en te hervorm nie. Sy begeerte is dat die heiliges, vervul met die goddelike liefde van sy Heilige Gees, aktiewe getuies in die samelewing sal wees. Om hierdie rede moet geesvervulde Christene daarna streef om sleutelposisies in die samelewing te beklee. Die genade van God en die toewyding aan sy wil sal ons in staat stel om voortreflike diensknegte van die samelewing te wees.

1. Ons verhouding teenoor onsself (Judas 1:20-25)

Bou julleself op… en bid in die Heilige Gees (v. 20). As Christene die Here en die samelewing doeltreffend wil dien, moet hulle op hulself ag gee (1 Tim. 4:16). ‘n Mens se eie geestelike toestand moet nie van willekeurige beginsels en toevallige handelinge afhanklik wees nie, maar van doelgerigte, persoonlike toewyding en die gebruik van goddelike genademiddels. Jou geestelike opbouing is daarvan afhanklik dat jy deur die geloof in die Heilige Gees sal bid. Die Here kan ‘n Christen nie sonder sy aktiewe samewerking opbou nie.

Bewaar julleself in die liefde van God (v. 21). Die ewige lewe is uitdruklik ‘n gawe van goddelike genade, en kan selfs nie deur die hoogste toewyding tot heiligheid verdien word nie. Net so seker is egter die feit dat ‘n mens nie in die ewigheid die voordele van Jesus Christus se genade sal geniet as jy nie jou volle samewerking gee om jouself in die liefde van God te bewaar nie. Johannes het gesê: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Joh. 5:3).

Wees barmhartig… en haat die kleed wat deur sonde bevlek is (v. 22-23). Dit sal sekerlik ‘n verskil maak as ons barmhartig teenoor andere is om hulle te red en uit die vuur te ruk. Christene moet beslis poog om die verlorenes te help om die Here te vind deur goed vir hulle te wees. In sy pogings om die behoeftiges te help, moet die Christelike werker versigtig wees dat sy kleed nie deur die sondes van die ongereddes bevlek word nie.

Om julle vir struikeling te bewaar en sonder gebrek… te stel (v. 24). Wanneer ons die Here se wil doen deur die soek en redding van hulle wie se lewens deur die sonde besmet is, verkeer ons in gevaar om deur dieselfde sondes besmet te word. Ons het egter die versekering dat die wil van God ons nie sal lei na plekke waar sy genade ons nie kan bewaar nie. Hy kan ons van struikeling bewaar as ons begeer om bewaar te word. Vir die Here om iemand te bewaar, moet dié persoon homself in die liefde van God bewaar, sy eie wil onderworpe hou en homself aan die wil van God oorgee.

Aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid (v. 25). Omdat God die een is wat die sondaar verlos, die gelowige heilig en die een wat versoek word, van struikeling bewaar, kom al die eer en heerlikheid net aan Hom toe vir die groot dade van sy verlossingswerk.

2. Ons verhouding met die wêreld (Filippense 2:14-16)

Doen alles sonder murmurering en teëspraak (v. 14). In die vorige vers is die Filippense daaraan herinner dat dit God is wat in hulle werk om te wil, sowel as om te werk na sy welbehae. In hierdie vers word hulle vermaan om nie oor sy goddelike beskikking te murmureer en te kla nie. Die Here sal die Christene help om teen sonde en boosheid staande te bly, en nie vitterig en foutvinderig te wees nie. Dit is nie ‘n aanbeveling vir ‘n kind van God as hy net kan kritiseer en veroordeel sonder om eer te gee aan dié aan wie eer toekom nie (Rom. 13:7).

Sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God (v. 15). Dit word vertel dat John Wesley en ‘n vriend, terwyl hulle ‘n ete geniet het, deur ‘n jong kelnerin bedien is wie se hand vol juweliersware was. Die vriend het effens neerhalend aan Wesley gevra: “Wat dink u daarvan?” Sy antwoord was: “Dit is ‘n baie mooi hand.” Wesley se doel was nie om wêreldse gedrag goed te praat nie, maar om die kelnerin misnoë en verleentheid te spaar. Christene wat onverskillig oor die gevoelens van andere is, is nie onberispelik en opreg terwyl hulle moet skyn soos ligte in die wêreld nie. Dit is beter om ‘n lig te wees as om net die duisternis te veroordeel en te bestraf. Niks wys die aakligheid van sonde so duidelik uit as ‘n glansende, bekoorlike, oorwinnende en heilige lewe nie.

Deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ‘n roem (v. 16). Lelies wat ontbind, ruik erger as onkruid. Daar is ‘n wyse waarop die Woord van God oorgedra word, waardeur die God van die Woord verloën word. Dr. Harold Hoyt het sy jong teologiese studente soos volg vermaan: “Menere, julle kan die duiwel op só ‘n duiwelse manier beveg dat julle self duiwels word.” Paulus het die Filippense aangemoedig om die Woord só aan andere oor te dra dat dit vir die hoorder én die boodskapper tot seën sal wees. Wanneer dít gedoen word, sal daar rede tot roem wees wanneer die Here Jesus kom.

3. Ons verhouding met die gelowiges (Romeine 12:9-13)

Laat die liefde ongeveins wees (v. 9-13). Die wêreld van vandag word deur nabootsings, plaasvervangers en vervalsings gekenmerk. Daar is ‘n nabootsing of plaasvervanging vir omtrent enigiets. Daar is sekere nabootsings wat selfs beter as die oorspronklike produk is. Wanneer dit egter by die Christelike liefde kom, is plaasvervangers onaanvaarbaar. ‘n Parafrase van vers 9 lui só: “Laat ons geen nagbebootsde liefde hê nie.” Ware Christelike liefde het verskeie vrugte:

1.   ‘n Eerlike breek met boosheid, en ‘n ware toewyding aan die goeie.

2.   ‘n Warm toegeneëntheid tot mekaar, soos tussen broers.

3.   Die bereidwilligheid om die eer aan die ander persoon te gee, en mekaar sodoende in eerbetoning voor te gaan.

4.   Om nie lui te wees nie, maar ywerig in God se werk.

5.   Om die vuur van die Gees aan die brand te hou.

6.   Om jou hoop in Christus te stel.

7.   Om lankmoedig in beproewings en verdrukking te wees.

8.   Om gaste wat behoeftig is, vir etes uit te nooi.

Daar moet soveel hartlikheid en mededeelsaamheid onder die heiliges wees, dat die sondaars sal begeer om ook Christene te wees. Baie sondaars word van Christus of van redding afgesit deur die onverskilligheid en wreedheid van Christene teenoor mekaar. Laat ons mekaar nie net in woorde liefhê nie, maar in daad en in waarheid. Hierdie vermaning is nie teen die woordelikse verklaring van ons onderlinge liefde nie, maar dat sulke verklarings ook in die praktyk in werking gestel moet word.

Kommentaar oor die Sleutelteks

Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het (Ef. 4:32).

‘n Heilige godsdiens is die praktiese, alledaagse soort. Die Fariseërs het ‘n seremoniële heiligheid gehad wat hulle van ander mense onderskei het, maar hulle nie van enige praktiese waarde vir die gemeenskap gemaak het nie. Hulle het soos wegwysers langs die lewenspad gestaan, die weg aangewys deur swaar laste op mense te lê, maar self nie die pad bewandel nie omdat hulle dit nie geestelik verstaan het nie. Hulle godsdiens was ongebalanseerd, uiters streng in sekere opsigte, en uiters liberaal in ander opsigte. Daar was geen goedheid of meegevoel vir sondaars nie, slegs veragting en teësin.

Ware heiligheid plaas ‘n persoon in die regte verhouding tot God, homself, ander gelowiges en die wêreld. Die Christene is nie ván die wêreld nie, maar hulle is sekerlik ín die wêreld en het ‘n verantwoordelikheid teenoor dit. Die invloed wat hulle uitoefen maak die wêreld beter óf slegter. Daar is ‘n duidelike behoefte aan meer goeie beïnvloeding.

Goedheid kos min, maar dit beteken so baie. Daar word dikwels meer oor goedheid gepraat as wat goedheid bewys word. Soos die barmhartige Samaritaan, moet geleenthede om goed te doen, raakgesien en benut word. Net ‘n vriendelike woord of ‘n ondersteunende daad, en ‘n persoon wat andersins ontmoedig was, kan weer moed skep.

Neem tyd om heilig te wees, is baie goeie raad. Van net soveel waarde is die opdrag: Neem tyd om goed teenoor andere te doen. Wanneer goedheid van heiligheid af weggeneem word, dan bly daar net ‘n skynheilige Fariseër oor.

Die teks in Efésiërs 4:32 het basies op persoonsverhoudinge in die kerk betrekking. Heiligheid veroorsaak dat die kinders van God mekaar liefhet en ook dienooreenkomstig optree. Toneelspel sal nie help nie, maar slegs ‘n ware liefde wat in jou lewe sigbaar is. Die effektiewe getuienis van heiligheid het in die meeste gemeenskappe verdwyn as gevolg van strydende faksies in die kerk, of persoonlike rusies tussen kerklidmate. Onvergewensgesindheid en ‘n gebrek aan goedheid is twee van Satan se mees doeltreffende metodes om skade aan siele te berokken.

Die Here Jesus het die reël bepaal dat om vergewe te kan word, moet jy ook vergewe. Waar laat dit die verontregte broeder of suster wat ‘n wrok en bitterheid as gevolg van seergemaakte gevoelens teenoor iemand anders koester? Dit is net so geseënd om te vergewe as om self vergewe te word. Vergewensgesindheid vereis nederigheid en dalk selfs die prysgawe van jou regte. Hy wat nie vergewe nie, moet seker maak dat hy self nooit oortree nie.

Tydens Paulus se eerste besoek aan Europa het hy in Filíppi ‘n damesbiduurgroep gekry wat langs die rivier byeengekom het. Jare later het hy aan die gemeente in Filíppi geskryf. In sy brief het hy Euódia en Sintiché vermaan “om eensgesind te wees in die Here” (Fil. 4:2). Hierdie vroue was moontlik lede van daardie eerste biduurgroep. Die duiwel hou daarvan om verdeeldheid tussen ou vriende te bring, en selfs tussen gebedsgenote as hy kan. Paulus was wys om nie kant te kies nie, maar hy het die beëindiging van die verwydering bepleit. Vir ‘n gemeente om sterk te wees, moet daar terselfdertyd ‘n sterk verhouding met God én goeie interpersoonsverhoudinge tussen die lede gehandhaaf word.

Beoordeel jouself in hierdie opsig deur die volgende vraag te beantwoord: Indien jy God behandel soos wat jy ander mense behandel, sal Hy weet dat jy Hom liefhet?

Leerstellige Bespreking

Dit is ‘n fout om te dink dat ‘n rein hart outomaties jou persoonlikheidsafwykings na aanvaarbare sosiale gedrag sal verander. Ons moet ons hele lewe lank aan ons persoonlikheid werk. Romeine 12:2 sê: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Die Griekse woord vir “word verander” ondersteun die gedagte dat ons verander word. Aangesien dit in die passiewe vorm is, dui dit daarop dat ons ‘n verantwoordelikheid in die verandering het om op die leiding van die Heilige Gees te reageer. Hy bring aspekte van ons persoonlikheid onder ons aandag waaraan ons moet werk. Hierdie proses van verandering help om ons te laat besef dat ons verhoudings met ander mense voortdurend na ‘n hoër vlak moet ontwikkel.

Beginnende by Romeine 12:9, word daar ‘n aantal dinge genoem wat ons in ons verhoudings kan help.

Die eerste is om toneelspel, of skynheiligheid, uit ons lewens te hou. Dit is die betekenis van die woord “ongeveins”. Ons moet in alle opsigte eerlik optree en geen bymotiewe hê nie. Ons moet ook in alles wat ons van ander mense sê, ‘n rein gewete behou. Stel ‘n saak dadelik reg as die Heilige Gees jou daarvan oortuig.

William Barclay het gesê: “Daar is so-iets soos vertoonkasliefde wat sy goedkeuring heg aan dié dinge waardeur ‘n persoon bevoordeel kan word. Dit is ‘n selfsugtige liefde waarvan die doel is om veel meer te ontvang as wat daar gegee hoef te word. ‘n Ware Christelike liefde is van die self gereinig. Dit is ‘n suiwer, uitgaande liefde na die harte van andere” (The Letter to the Romans).

Volgens vers 9 moet ons almal liefhê, want dit is ‘n natuurlike gevolg van Christenskap. In vers 10 word daar meer spesifieke verhoudings aangespreek: “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde.” Die Griekse woord philostorgos beteken “gesinsliefde”. In die gesin van God moet daar ‘n dieper liefde tussen sy kinders wees.

Ons verhoudings met mede-Christene moet vir ons blydskap bring en ons moet mekaar voorgaan in eerbetoon. Heilige mense moet die belange van ander hoër as hul eie belange stel. Die ouer broer in die verhaal van die verlore seun is ‘n skreinde voorbeeld van mislukking in hierdie soort gesinsliefde. Mens hoef nie in die Christen-wêreld voorbeelde van dieselfde liefdeloosheid te gee wat ‘n duidelike verbreking van die opdrag oor heilige verhoudings is nie, want dit kom dikwels voor. Dié soort gesindheid word deur jaloesie gemotiveer.

Aangesien ons verhoudings op liefde gebaseer is, word die natuurlike gevolg hiervan in vers 13 gevind: “Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges.” Om liefde te begryp is om te weet dat ons ook moet gee! Liefde soek na die hoogste belang van andere en sluit dus die voorsiening in hulle behoeftes in. Heiligheid en suinigheid is onversoenbaar met mekaar.

Die laaste verhouding wat bespreek word, word in vers 13 genoem: “streef na gasvryheid”. Daar word op baie plekke gesê dat gasvryheid ‘n goeie eienskap is (Heb. 13:2; 1 Tim. 3:2; Titus 1:8; 1 Pet. 4: 9). In elke geval is die woord wat gebruik word, ‘n kombinasie van twee Griekse woorde waarvan die een liefde en die ander vreemdeling is. Ons het nie net ‘n verantwoordelikheid om die broeders wat ons goed ken, lief te hê nie, maar ook die vreemdelinge. Sommige mense het ‘n gawe om jou in hulle huis te laat tuis voel, sodat daar geen spanning op die besoeker is nie. Van sy kant af moet die besoeker ook nie sy gasheer uitbuit nie. Die nakoming van hierdie reëls sal meebring dat beide die besoeker en die gasheer op hulle gemak voel.

Vrae en Antwoorde

Hierdie les handel oor ons verhoudings met ander mense. Verskeie aspekte van ons lewe word deur gesagspersone beïnvloed. Sommige daarvan word in die volgende besprekingsvrae genoem sodat die waarhede oor ons verhoudingslewe beter begryp kan word:

1. Een aspek van ons verhoudings het met gesag in die algemeen te doen. Daar is baie gesagspersone in ons lewe. Wat behoort ons houding en reaksie teenoor gesag in ons lewe te wees?

God is ‘n alomteenwoordige, almagtige, genoegsame en ewige Skepper. Hy het bepaal dat beperkte mense binne sekere grense van dit wat Hy geskape het, sal leef, bv. die natuurlike wette.

Die mens moet ook God se morele wette onderhou om Hom te behaag. God beklee ‘n regmatige gesagsposisie oor die mens. Die waarlik geheiligde persoon is op alle lewensterreine aan die wil van God onderdanig. Hy ontwyk of weerstaan nie God se gesag om elke hoek en draai nie. Sy houding is eerder om God se wil te ken en te doen.

God het die gesin in die Tuin van Eden ingestel. Dit is sy begeerte dat kinders gehoorsaam aan die gesag van hulle ouers moet wees (want hulle simboliseer God se gesag oor ons). Respek en onderdanigheid aan ouers maak respek en ondanigheid aan ander gesagspersone (insluitende God) baie makliker.

Daar is ook gesagspersone in die regering. Die Bybel sê: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Matt. 22:21). Ons word verder vermaan om ons te onderwerp aan die magte wat oor ons gestel is (Rom. 13:1). Ons het die verpligting om die regeringsinstellings te respekteer en te gehoorsaam so lank as wat hulle nie God se wette verbreek nie. Wanneer die behoorlike kanale gevolg word, kan ‘n mens ook jou ontevredenheid met die regering se wette of besluite te kenne gee.

Die mense kyk na ons lewens. Indien ons nie aan gesagspersone in ons huise, kerke, werksplekke, dorpe, stede of die land onderdanig is nie, dan kan die logiese gevolgtrekking gemaak word dat ons ook nie aan God onderdanig is nie. Ons invloed vir dit wat reg is, kan erg geknou word as mense sien dat ons gesagspersone en -instellings verontagsaam of verwerp.

2. Wat is die regte verhouding wat daar tussen mans en hul vrouens moet wees?

‘n Heilige lewe beteken nie dat ‘n man as ‘n diktator oor sy vrou moet heers nie. Dit beteken ook nie dat die vrou die man se gesag mag verwerp nie. Kom ons let op enkele Bybelse riglyne oor hierdie verhouding.

Die man moet die hoof van die huis wees. Christus is die hoof van die kerk, en die man moet sy leierskapsrol onder Christus se gesag aanvaar (Ef. 5:23-25). Daar is geen regverdiging vir ‘n diktatorskap nie. In vers 25 word gesê dat die man sy vrou moet liefhê soos wat Christus die gemeente liefhet. Christus het sy lewe vir die kerk afgelê. Hy gaan voort om net die beste belange van die kerk te soek deur die nodige genade, krag en hulp vir ‘n suksesvolle lewe te gee. Hoewel die man nie alles kan doen wat Christus doen nie, moet hy nogtans sy bes doen om sy vrou te beskerm, lief te hê, te respekteer en goed te behandel. Hy moet haar beste belange op die hart dra en die lewe vir haar so vervullend as moontlik maak. Selfsugtigheid en dade van mishandeling is totaal uit pas met sy leierskapsrol. Die man moet ten diepste geestelike leierskap aan sy gesin bied, en sal eendag voor die regterstoel van Christus rekenskap hieroor moet gee. Die Gees van God sal hom egter in staat stel om ooreenkomstig God se Woord te leef.

Die vrou het ook riglyne waaraan sy moet voldoen. Sy moet haar man eer, liefhê en aan hom onderdanig wees (Ef. 5:33; Titus 2:4-5). Soos wat die man homself aan die leierskap van Christus oorgee, moet die vrou haarself aan die leierskap van die man oorgee (Ef. 5:22-24). Die vrou word nie beveel om ‘n passiewe robot te wees nie. Sy dink en handel vir haarself. Sy moet egter daarna streef om haar man te behaag, soos wat hy die voorbeeld stel om God te behaag. Die man en vrou moet 'n span vorm. Onderlinge respek en vertroue moet verdien en gegee word. Goeie kommunikasie en openhartigheid is noodsaaklik vir die span om goed te kan funksioneer. Soms moet vergifnis deur een van die twee gesoek én verkry word. Daar moet baie gegee en geneem word om ‘n huweliksverhouding goed te laat werk.

3. Wat is die regte verhoudings tussen ouers en hulle kinders?

Heiligheid van hart lei nie outomaties tot volmaakte ouer-kind-verhoudings nie. Die ouers moet baie vir wysheid en hulp bid sodat hulle die kinders reg kan opvoed en ook die regte verhouding met hulle kan handhaaf. Dit is baie belangrik om nie net vír jou kinders te bid nie, maar ook saam met hulle te bid.

Die ouers moet verskillende dinge in ag neem om die regte verhouding met hul kinders te handhaaf. Dit moet ‘n sigbare liefde wees. Niks kan ‘n kind se behoefte aan liefde vervang nie. Dit moet altyd met die regte voorbeeld in woorde, houdings en dade gepaard gaan. Daar moet ook deurgaans gepoog word om morele en skriftuurlike waarhede en waardes in die harte en gedagtes van kinders te vestig (Spr. 22:6). Daar moet ook van hulle onderdanigheid, respek en die aanvaarding van hulle verantwoordelikhede verwag word. Vaders moet nie hulle gesag misbruik en daardeur die toorn van die kinders opwek nie (Ef. 6:4). Ouers moet in die behoeftes van hulle kinders voorsien. Let ook daarop dat onvolwassenheid nie as ‘n sonde beskou moet word nie. Die ouer-kind-verhoudings moet op onderlinge respek, vertroue en goeie kommunikasie gebou word.

4. Wat is die regte verhouding tussen kinders en hulle ouers?

Heiligheid van hart beteken nie dat die kinders outomaties en ten alle tye die regte verhouding met hulle ouers sal handhaaf nie. Onvolwassenheid lei tot onwyse woorde en dade. Die kinders moet egter daarna streef om God én hulle ouers te behaag. Hulle word beveel om hulle ouers te gehoorsaam (Ef. 6:1). Wanneer ‘n kind leer om sy ouers te gehoorsaam, sal hy dit ongetwyfeld makliker vind om God en ander gesagspersone te gehoorsaam. Die kinders moet hul ouers eer en respekteer (Ef. 6:2). Die kind-ouer-verhouding kan deur openhartigheid, die aanvaarding van verantwoordelikhede, die regte houdings en die gewilligheid om advies te aanvaar, gebou word.

5. Hoe moet heilige persone se verhoudings met ander mense daar uitsien?

Ons moet ten alle tye ‘n godvresende lewe lei terwyl ons invloede op ander mense uitoefen. Dit is noodsaaklik om ander mense lief te hê. Mense wil graag behandel word soos ons ook self graag behandel wil word. Die regte behandeling van ander kan soms plofbare situasies ontlont. Eerlikheid in saketransaksies is ook noodsaaklik. ‘n Poging moet aangewend word om in vrede met alle mense te leef. Wanneer daar verskille ontstaan, verskil dan op só ‘n manier dat jy nie van jou kant af toorn verwek nie. Leef in eensgesindheid met ander gelowiges. Vergewe andere, maar moet nooit sonde goedpraat of toesmeer nie. Respekteer die regte van ander. Leef ten alle tye só dat ander kan sien jy is ‘n Christen.

6. Kan Christene onderling verskil?

Ja, want hulle is steeds menslik. Hulle het nie ‘n oplossing en ‘n antwoord vir almal se probleme nie. Die Here het aan elkeen van ons ‘n verstand gegee om te gebruik. Hoewel opbouende advies goed kan wees, is dit ook waar dat nie alle aspekte van ‘n saak altyd deur ‘n “kundige” berader geken word nie. Die persoon wat by die probleem betrokke is, besef soms meer daarvan as die kundige raadgewer. In sulke gevalle het ons gronde om van mekaar te verskil en dus nie altyd mekaar se raad te aanvaar nie.

Dit moet ook in gedagte gehou word dat mense uit verskillende agtergronde, kulture en opvoedkundige vlakke kom, wat alles na verskillende opinies kan lei. Die sinvolle wisseling van idees kan baie help om beter begrip vir mekaar se omstandighede te skep. Ons kán van ander leer!

Die Bybel is die finale antwoord vir alle vrae oor die lewe. Dit is bokant menslike opinies oor alle sake verhewe. Dit mag soms wees dat mense nie ‘n saak op ‘n bepaalde manier sien nie. Dit is in orde, solank hulle siening nie in stryd met die Bybel is nie. Wanneer ‘n standpunt in botsing met die Bybel is, is dit absoluut verkeerd – dan is dit vir ons geregverdig om van só ‘n opinie te verskil.

Verskillende opinies oor ‘n saak beteken nie noodwendig dat een van die partye sondig nie. Christene moet leer om “ooreen te kom om oor sekere sake te verskil” en steeds in eensgesindheid met mekaar te leef. Iemand het gesê: “Dit is slegs twee idiote wat altyd sal saamstem.”

7. Wat moet gedoen word indien ‘n persoon ‘n slegte verhouding met iemand anders het?

Verskeie dinge moet gedoen word. As ‘n broer iets teen jou het, moet jy na hom toe gaan en jouself met hom versoen (Matt. 5:23-24). Wanneer ons iemand anders ‘n onreg aangedoen het, moet ons die saak met God én die betrokke persoon regmaak. Wanneer ons voel dat ons benadeel is, moet ons dit in sekere gevalle maar liewer vergeet. Indien nodig, moet ons na die persoon toe gaan en dit met hom bespreek. Daar moet openhartig na sy weergawe geluister word in ‘n poging om die misverstand uit die weg te ruim en die vriendskap te herstel. Vergifnis is ‘n vereiste indien ons behoorlike verhoudings wil skep en gebroke verhoudings wil herstel. Sekere oortredings wat vergewe is, moet ook nog prakties reggestel word.

Skinderstories kan ook verhoudings benadeel. Dit is meesal wys om dit te ignoreer. Probeer om só te lewe dat jy onder alle omstandighede bo verdenking is, en mense dit moeilik vind om iets te kry om oor te skinder.

Ons verhouding met ander mense kan net reg wees as ons verhouding met God reg is. Ons moet met die liefde van God vervul wees. Indien ons God met ‘n volkome hart liefhet, is ons in staat om andere lief te hê omdat sy liefde deur ons vloei. Dinge in die praktyk sal nie altyd volgens ons sin verloop nie, maar as ons volkome toegewy aan God leef, sal Hy aan ons die genade gee om altyd oorwinnend te leef.

 

12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid

Sleutelteks

"Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is" (Matt. 5:48).

Sentrale waarheid

Die krisis van volkome heiligmaking vervolmaak die gelowige in die liefde en stel hom tot effektiewe diens in staat.

Les

Kolossense 1:25-29

25 [die gemeente] waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul,

26 naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges,

27 aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.

28 Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel;

29 waarvoor ek arbei en stry volgens die werking wat in my werk met krag.

1 Johannes 4:15-18

15 Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom, en hy in God.

16 En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.

17 Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.

18 Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

Efésiërs 3:14-19

14 Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus,

15 van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang,

16 dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens,

17 sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is,

18 en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is,

19 en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Op verskeie terreine van die lewe word volmaaktheid van ons verwag en selfs beveel. Op die terreine van die medisyne en tegnologie is niks minder as volmaaktheid aanvaarbaar nie. Baie mense verwag volmaaktheid op elke lewensterrein behalwe op morele en geestelike gebied. Die apteker moet volmaaktheid in die verskaffing van sy medisyne handhaaf, maar die Christen mag nie van morele of geestelike volmaaktheid praat nie.

Die idee van Christelike volmaaktheid is nie ‘n nuwe idee nie, en word ook nie net deur ‘n paar groepies selfmisleide mense aan die rand van die samelewing verkondig nie. Volmaaktheid is ‘n duidelike Bybelse beginsel. Die term “volmaak” of “volmaaktheid” word verskeie kere in die Bybel gebruik, en in baie gevalle verwys dit uitdruklik na die Christen se karakter.

Volmaaktheid word in Deuteronómium 18:13 en Mattheus 5:48 beveel. In Hebreërs 6:1 word dit as ons ideaal gestel, en in Hebreërs 13:20-21en 2 Kor. 13:9 word hierom gebid. In Filippense 3:15 word hiervan getuig.

Iets word as volmaak beskou as dit aan die doel beantwoord waarvoor dit beplan is. Dit is nie nodig dat ‘n stoof die werk van ‘n koelkas moet kan doen om ‘n volmaakte stoof te wees nie. As dit goed kan bak en kook is dit ‘n volmaakte stoof. Die feit dat Christene nie soos die engele is nie, beteken nie dat hulle onvolmaakte Christene is nie.

Indien God nie ‘n volmaakte werk van verlossing en reiniging kan doen nie, dan kan niemand verwag om volmaak te wees nie. Indien Hy egter wél so ‘n volmaakte werk kan doen, dan moet die Christene Hom toelaat om alles vir hulle te doen wat Hy beplan het. ‘n Christen moet sekerlik so volmaak wees as wat die genade van God, deur die krag van die Heilige Gees, hom in staat kan stel om te wees.

1. ‘n Volmaakte voorstelling (Kolossense 1:25-29)

Waarvan ek ‘n dienaar geword het (v. 25). Paulus was nie net gerieflikheidshalwe of deur sy eie keuse ‘n leraar nie, maar deur oortuiging. Die Here het hom gekies en in staat gestel om ‘n leraar te kan wees, en hom ook in die bediening gestel. In Efésiërs 4:11-12 noem hy die groot doel met sy bediening, naamlik om die heiliges “toe te rus” vir hulle dienswerk – m.a.w. te vervolmaak.

Die verborgenheid wat… nou geopenbaar is aan sy heiliges (v. 26). ‘n Verborgenheid is ‘n waarheid wat nie deur die mens se intellektuele vermoë ontdek kan word nie, maar dit word deur God geopenbaar en in die geloof aanvaar deur diegene aan wie dit geopenbaar is. Die Ou Testamentiese profete het baie dinge geprofeteer wat hulle nie self ten volle verstaan het nie. In die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur en Homself in Hom as die Verlosser van die mensdom geopenbaar. Christus is die lewende selfopenbaring van God aan die mens.

God wou… hierdie verborgenheid onder die heidene bekend maak (v. 27). God se doel om Abraham en sy afstammelinge te kies, was om Homself aan die nasies bekend te maak. Israel het in hierdie doel misluk. Die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid is Christus wat in die Christen woon, die inspirerende hoop van die heerlikheid.

Hom verkondig ons… om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel (v. 28). Paulus se prediking het soms oor “dinge” gegaan, maar dit was basies ‘n boodskap oor “’n Persoon”. Hy het Christus verkondig. Hy het Christus ook met die beste wysheid tot sy beskikking verkondig. Hy het waarskuwings en onderrig in sy prediking met ‘n besliste doel gedoen, naamlik om elke mens by die wederkoms volmaak in Christus Jesus voor te stel. Hy het met ‘n duidelike sin van verantwoordelikheid gepreek.

Waarvoor ek arbei en stry volgens die werking wat in my werk met krag (v. 29). God het met krag deur Paulus gewerk. Hierdie werking het nie daartoe gelei dat Paulus rustig teruggesit en toegekyk het hoedat die Here werk nie. Hy het met ‘n ooreenstemmende persoonlike ywer vir dieselfde saak op God se werking gereageer. Hy het saam met die Here vir die vervolmaking van die heiliges gewerk.

2. ‘n Volmaaktheid wat ontvang is (1 Johannes 4:15-18)

Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is (v. 15). Christus is die sentrale, kardinale skakel tussen mense en God. God sal niemand aanneem wat weier om die Seun van sy liefde te erken en aan te neem nie. Elkeen wat uit die beginsel van ‘n liefdevolle geloof openlik en ten spyte van gevaar en opposisie bely dat Jesus die Seun van God is, bly in Hom.

En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo (v. 16). Hierdie kennis is dit wat deur ondervinding opgedoen is. ‘n Mens mag van die liefde van God gehoor het en dit ook aan ander vertel, sonder om dit self te ken. Jy behoort egter veel van die liefde wat God vir ons het, te weet omdat jy dit self ervaar het. Jy kan nie in die Here woon, of Hy in jou, sonder die teenwoordigheid of bewussyn van sy liefde in jou nie.

Hierin het die liefde by ons volmaak geword (v. 17). God wat in die Christen woon en die Christen wat in God woon, is wat Christelike volmaaktheid beteken. Wanneer die Christen homself volkome aan God toewy, aanvaar God hom en vervul hom met die uitsluiting van alle sondige neigings en morele verdorwenheid wat in stryd met sy liefde is. Volmaakte liefde is die essensie van Christelike volmaaktheid. Die eerste en grootste gebod is volmaakte liefde teenoor God, ander mense én jouself. Dit is volmaakte liefde wat aan jou vrymoedigheid vir die oordeel gee. Volmaakte liefde gee aan die Christen die kalm sekerheid dat ons regter ook ons vriend is, en dat daar vir ons geen veroordeling is nie. Hierdie vrymoedigheid is nie gebaseer op die idee dat daar geen oordeel vir die goddelose is nie, maar deur die vaste wete wat die Gees van God in ons harte gee dat ons versoening met Hom volmaak is. Soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. Ons is nie in mag, wysheid en heerlikheid soos die Here nie, maar ons deel sy morele reinheid.

Daar is geen vrees in die liefde nie (v. 18). Die hele verband dui aan dat die vrees wat nie saam met die volmaakte liefde kan bestaan nie, die vrees vir die straf en oordeel van God is. Die liefde wat die bewussyn bring dat ‘ons regter ook ons vriend’ is, verdryf alle vrees oor wat die toekoms vir ons inhou. God het aan die mens ‘n sin van vrees vir die onbekende en vir gevaar gegee. Die vrees wat jou van ‘n giftige slang of ‘n brandende gebou af laat weghardloop, is ‘n gawe van God en as sodanig nie strydig met die volmaakte liefde, of met Christelike volmaaktheid nie.

3. ‘n Volmaaktheid wat ‘n werklikheid is (Efésiërs 3:14-19)

Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader… van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang (v. 14-15). Paulus was oor die Christene in Éfese besorg en wou nie hê dat hulle ontmoedig moes word of wanhopig raak oor die vervolging wat hy ter wille van hulle verduur het nie. Hy het hulle verseker van sy gebede vir hulle as deel van die groot familie van God.

Dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikeid (v. 16-19). Die gawes van God is in ooreenstemming met sy volmaakte karakter. Hy gee nie net “uit” die rykdom nie, maar “na” die rykdom van sy heerlikheid. God kan nie net ‘n bietjie gee, of goedkoop wees in sy gawes nie. Om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens. Paulus deel met die gemeente die gebedsversoeke wat hy op sy knieë vir hulle gemaak het:

1.   Dat die Heilige Gees in hulle mag woon om hulle met krag te versterk.

2.   Dat hulle in die liefde gewortel, gegrond en bevestig sal wees as gevolg van Christus se inwoning in hulle.

3.   Dat hulle deur ervaring van die verstandelik onbegryplike liefde van Christus bewus sal word.

4.   Dat God vir hulle volheid en vervulling sal bring. Aan hierdie volheid moet nie as volpropping gedink word nie, maar as versadiging.

Ons moet erken dat Paulus die Christelike lewe as ‘n geestelike lewe gesien het wat tot groot dieptes van toewyding en hoë hoogtes van ontwikkeling in staat is.

Die gebed word afgesluit met die versekering dat God in staat is om dit in ons en vir ons te doen, want “Hy het mag om te doen ver bo alles wat ons bid of dink.” Wat Hy wél vir ons sal doen, sal afhang van die krag van die geloof wat in ons werk. Christus sal deur alle ewigheid waardig wees van die eer en heerlikheid wat Hom toekom vir sy groot verlossing en instaatstellende krag vir ons.

Kommentaar oor die Sleutelteks

Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is (Matt. 5:48).

In die voorafgaande verse (v. 43-47) het Jesus oor goddelike liefde gepraat, waarin Hy God se goedheid en liefde beskryf teenoor diegene wat Hom liefhet. In vers 48 roep Hy sy volgelinge op om volmaak te wees soos ons hemelse Vader volmaak is. Hieruit is dit duidelik dat die volmaaktheid wat Jesus van sy volgelinge verwag, volmaaktheid in liefde is. Ons liefde vir andere moet nie afhanklik wees van hoe hulle ons behandel nie, want volmaakte liefde sluit ook liefde vir ons vyande in. Wesley en andere verwys hierna as Christelike volmaaktheid. Die res van hierdie afdeling is ‘n uittreksel uit John Wesley se boek, A plain account of Christian perfection:

1.   Daar is so-iets soos volmaaktheid, want dit word oor en oor in die Bybel genoem.

2.   Dit vind nie so vroeg as regverdigmaking plaas nie, want geregverdigde persone moet nog “na die volmaaktheid voortgaan” (Heb. 6:1).

3.   Dit is nie so laat as die dood nie, want Paulus praat van lewende mense wat volmaak is (Fil. 3:15).

4.   Dit is nie absoluut nie. Absolute volmaaktheid behoort nie aan mense en ook nie aan engele nie, maar net aan God alleen.

5.   Dit maak die mens nie onfeilbaar nie, want niemand is onfeilbaar terwyl hy nog in sy liggaam is nie.

Die volgende is vrae wat n.a.v. Wesley se leer oor Christelike volmaaktheid deur ander Christene aan hom gestel is. Sy antwoorde word verstrek:

“Wat is Christelike volmaaktheid dan?”

“Dit is om God met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou kragte lief te hê. Dit impliseer dat geen verkeerde temperament of verkeerde liefde in die siel oorbly nie, en dat al die gedagtes, woorde en dade deur ‘n suiwer liefde beheer sal word.”

“Bevestig u dat hierdie volmaaktheid alle swakhede, onkunde en foute uitskakel?”

“Ek bevestig voortdurend net die teenoorgestelde, en het dit nog altyd gedoen.”

“Maar hoe kan elke gedagte, woord en daad deur ‘n suiwer liefde beheer word, terwyl die persoon terselfdertyd aan onkunde en foute blootgestel is?”

“Ek sien geen teenstelling hierin nie. ‘n Persoon kan met suiwer liefde vervul wees en steeds foute maak. Ek verwag nie om van foute bevry te wees voordat hierdie sterflike liggaam met ‘n onsterflike vervang is nie. Foute is ‘n natuurlike gevolg van die siel se inwoning in vlees en bloed. Ons kan nou slegs dink deur die bemiddeling van liggaamlike organe wat saam met ons liggaam gely het as gevolg van die sondeval. Ons kan dit dus nie verhelp om soms verkeerd te dink nie, totdat hierdie verganklike met onverganklikheid beklee sal wees.

“Só ‘n persoon voldoen nie aan my idee van ‘n volmaakte Christen nie, en miskien sal niemand ooit hieraan voldoen nie.”

“U idee gaan dalk verder as die Bybelse weergawe, of ten minste langs dit. U sluit miskien meer daarin as wat die Bybel insluit, of wat die Bybel glad nie as ‘n deel van volmaaktheid bedoel nie. Christelike volmaaktheid is suiwer liefde wat die hart vervul, en ‘n persoon se woorde en dade beheer. Indien u idee enigiets meer of enigiets anders insluit, is dit nie Bybels korrek nie. Geen wonder nie dat ‘n Bybels volmaakte Christen nie aan u idee of beskrywing kan voldoen nie.

“Stel hierdie volmaaktheid in sy oorspronklike, Bybelse vorm voor, dan kan niemand ‘n woord teen dit sê nie. Wil iemand miskien iets daarteen sê om die Here jou God met jou hele hart lief te hê en jou naaste soos jouself; teen die vernuwing van die hart, nie slegs gedeeltelik nie, maar na die volle beeld van God? Wie kan sy mond oopmaak teen die reiniging van alle besoedeling van die vlees en die gees; of om die sin van Christus te hê en in die dinge wat Hy gedoen het, in sy voetspore te volg? Watter ernstige persoon kan die gee van jou hele hart aan God opponeer, of een begeerte wat al jou temperamente beheer? Ek sê dit weer: laat hierdie Christelike volmaaktheid in sy eie vorm voorgestel word, en wie kan dan teen dit veg?

“Is ons julle vyande omdat ons ‘n volle verlossing verwag van die vleeslike natuur wat in vyandskap teen God is? Nee, ons is julle broeders… Maar ons bely die vereiste dat ons God met ons hele hart moet liefhê, en ons naaste soos onsself. Ja, ons glo dat Hy in hierdie wêreld ons gedagtes en harte só deur die inspirasie en inwerking van sy Heilige Gees sal reinig, dat ons Hom met ‘n volmaakte liefde sal liefhê en op ‘n waardige wyse sy heilge naam sal grootmaak.”

Leerstellige Bespreking

Daar is in baie kringe groot misverstande oor die die begrip “volmaak”. Hierdie vrese is deur sowel die opponente as sekere ondersteuners van ‘n tweede genadewerk geskep. Sommige ondersteuners van hierdie siening het die standaard só hoog gestel dat niemand ooit daaraan kan voldoen nie. Hulle beweer dat jy só volmaak moet wees dat geen dwalende gedagte, geen verkeerde idee of enige ontmoediging oor die geheiligdes kan kom nie. Hulle het heiligmaking met verheerliking verwar! Hulle het vergeet dat die Bybel sê: “Ons het hierdie skat in erdekruike” (2 Kor. 4:7). Hulle siening is dalk net so sleg as dié van die opponente van volmaaktheid, want laasgenoemdes hoef net te bewys hoe menslik die voorstanders is om sodoende hulle leer verkeerd te bewys.

Daar is geen volmaaktheid wat die moontlikheid van oordeelsfoute en begripsfoute uitsluit nie, en selfs ook nie mislukkings en neerlae in menslike pogings nie. Geen geloofwaardige heiligheidsleraar het ooit aanspraak daarop gemaak dat daar só ‘n soort volmaaktheid is nie. Dit is geen weerlegging van die Wesleyaanse leer oor volkome heiligmaking om sulke klaarblyklike onvolmaakthede aan te toon nie. Niemand is meer daarvan bewus as diegene wie se harte waarlik volgens die sin van Jesus Christus funksioneer nie. Die volmaaktheid waarvan ons praat, en wat ons ook aan ‘n verloregaande wêreld probeer toon, is volmaakte liefde (1 Joh. 4:17; 5:3).

Volmaaktheid, of volkome heiligheid, bestaan uit ‘n hart wat só reingemaak is dat die motiewe en bedoelings daarvan moreel rein is. Die gees van die mens word in ‘n oomblik na ‘n hemelse standaard herskep, maar sy verstand reageer nie vinnig op die innerlike geestelike vernuwing nie.

Net soos wat die eerste werk van genade slegs deur genade en slegs deur die geloof is, word die tweede werk ook op dieselfde wyse verkry. Wat die Heilige Gees ook in die vorm van verootmoediging en belydenis mag vereis voordat die vleeslike natuur gekruisig word, is ‘n saak tussen jou en die Here. Dit is belangrik dat ons mense sal hê wat hierdie genade deelagtig geword het, eerder as ‘n groot antal wat net nabootsers daarvan is! Die nabootsers lei ‘n onvervulde lewe omdat die dieper werk van die Here nog nie in hulle gedoen is nie. Daar is ‘n paar algemene stappe en ervarings vir alle mense op pad na volkome heiligmaking:

1.   Ons sal van die noodsaaklikheid van hierdie werk oortuig word.

2.   Ons sal besef dat dit op grond van Christus se versoening tot ons beskikking is.

3.   Ons sal in gebed tot die Here nader om hierdie ondervinding te soek.

4.   Ons sal die Here toelaat om ons vleeslike natuur te kruisig en te vernietig, sodat ons harte gereinig en geheilig kan word.

5.   Ons sal in die geloof aanvaar dat hierdie werk gedoen is, terwyl die Heilige Gees ook saam met ons gees getuig dat die werk gedoen is.

6.   Reinheid van hart en rein morele beginsels sal die gevolg va hierdie ondervinding wees.

Ons moet onthou dat alhoewel ons harte gereinig is, daar nog ‘n menslike element in ons is wat eers met die opstanding en verheerliking vervolmaak sal word. Dit is waarom ‘n volkome geheiligde persoon oordeelsfoute kan begaan, met gevolge wat smarte aan sy siel kan besorg wanneer hy daarvan bewus word.

Hoewel die hart se motief om iets te doen, suiwer mag wees, het dit slegs die kanaal van ‘n onvolmaakte liggaam om homself aan die wêreld te openbaar. Hoe dikwels wou ons een gedagte of saak oordra, wanneer iets heel anders deur ons hoorders verstaan is. Dit is soos lig wat op ‘n meer skyn en die illusie skep dat ‘n vis op ‘n sekere plek is. Wanneer jy hom met ‘n spies probeer steek, dan mis jy hom! Sulke foute is die deel van geheiligde mense terwyl ons hier op aarde is. Soms doen ons iets met die beste en mees geheiligde bedoelings, net om deur mense volkome verkeerd beoordeel te word. Hulle neem nie in ag dat ons menslike manier van kommunikasie onvolmaak is, en dat ons suiwer motiewe gedeflekteer kan word deur ons persoonlikheid waaraan ons nog steeds met die hulp van die Here werk nie!

Laat ons seker maak van ons eie ondervinding van ‘n tweede werk van genade en dit voortdurend beoefen, terwyl ons altyd onthou dat die beste definisie daarvan “volmaakte liefde” is. Liefde streef  na die beste belange van andere, daarom sal ons mense na hoër hoogtes probeer lei, eerder as om hulle deur onnadenkende kritiek af te breek.

Vrae en Antwoorde

Hierdie les handel oor Christelike volmaaktheid. Mattheus 5:48 vermaan ons om volmaak te wees soos wat God volmaak is. Die volgende vrae en antwoorde sal ons help om beter te verstaan wat Christelike volmaaktheid is:

1. Wat is Christelike volmaaktheid?

Hierdie begrip beklemtoon die volkomenheid van die Christelike karakter soos deur die genade van die Here verander. Dit maak van jou geestelik die persoon wat die Here wil hê dat jy moet wees, met die regte begeertes en motiewe ten spyte van menslike beperkings en onvolmaakthede.

2. Wat is sekere dinge wat nie deur Christelike volmaaktheid bedoel word nie?

(1) Dit is nie absolute volmaaktheid nie. Net God is absoluut volmaak. Mense kan steeds foute maak, al is hulle ook volkome geheilig. (2) Ons is nie volmaak in kennis nie. Mense kan foute van oordeel en opvattings maak, gedeeltelik as gevolg van die sondeval. Ons het nie al die antwoorde oor geestelike én ander sake nie. (3) Dit beteken nie dat ons nie versoek kan word en ook nie sonde kan doen nie. Ons kan ten spyte van volkome heiligmaking nog steeds versoek word. Ons kan verkies om aan die versoeking toe te gee, maar ons hoef nie. (4) Christelike volmaaktheid maak ons nie immuun teen menslike beperkings nie. Ons word nog steeds siek, moeg depressief en ontmoedig, en sê en doen verkeerde dinge.

In wese verwyder Christelike volmaaktheid nie die vermoë om te faal, foute te maak en selfs te sondig nie. Meningsverskille, verkeerde oordeel en ander foute mag nog voorkom. Soms is vergifnis nodig om weer situasies reg te stel. Heiligheid van hart neem nie die menslikheid van die lewe weg nie.

3. Waarom is daar die opvatting onder sekere Christene dat hulle ná volkome heiligmaking geen foute kan maak nie?

Die grootste rede hiervoor is onkunde. In Christelike volmaking word die motiewe, houdings, begeertes en toestand van die hart voor God reggestel. Dit beteken glad nie dat die geheiligde persoon as mens bokant foute, verkeerde oordeel en selfs sonde verhewe is nie.

4. Wat moet ‘n geheiligde persoon doen nadat hy ‘n fout gemaak en gesondig het?

a.   Moet nooit opgee nie! Die duiwel sal alles probeer om jou te laat faal en van jou oortuigings te laat afsien. Onthou dat ons foute kán maak.

b.   Bid om die vergifnis van enige sonde, en vra die Here om jou te help en te lei om in die toekoms nie weer te sondig en foute te maak nie.

c.   Erken jou foute en sondes teenoor ander mense, en stel die saak reg. Onthou dat mense ‘n probleem met ‘n “holier than thou” gesindheid het. Wees dus bereid om nederig te wees en jou foute te erken. Deur dit te ontken sal jy die vertroue in jou én jou heiligheidsleer ernstig ondermyn.

d.   Onthou dat die beste antwoord soms stilswye is. Ons hoef nie altyd op vrae en kritiek oor ons te reageer nie. Deur ‘n vriendelike glimlag en deur stil te verdwyn, kan jy soms ‘n probleemsituasie ontlont.

e.   Bid vir die leiding, krag, genade, wysheid en hulp van die Here.

f.     Volg die goue reël van liefde.

6. Sal daar ooit ‘n tyd wees wanneer die heiliges sal kan lewe sonder om foute te maak?

In hierdie lewe sal ons altyd aan versoekings en foute onderworpe wees. Dit is eers by die opstanding en die wegraping dat ons verheerlik sal word en geen foute meer sal maak nie.

7. Hoe moet ons tot daardie tyd in die lig van ons beperkings lewe?

Ons doel moet wees om altyd God se wil en sy leiding te soek en te volg. Omdat ons van ons beperkings bewus is, moet ons grootmoedig genoeg wees om dit te erken en ons foute reg te stel. Van sonde moet ons onsself natuurlik bekeer deur dit te bely en te laat staan. Alle pogings moet aangewend word om binne die grense van ons vermoëns en deur die genade van God, reg te lewe. Ons kán oorwinnend leef tot die einde toe!

DIE VOLMAAKTHEID VAN GOD IN MY

Een nag toe ek die straat oorsteek, het ek skielik die helder gelui van ‘n klok bokant my gehoor. Toe ek opkyk, het ek ‘n toring gesien waarin daar ‘n groot horlosie was wat deur sy klokkespel die middernaguur aangekondig het. Ek het my horlosie uit my sak gehaal, en sy dun wysertjies het presies op 12-uur gestaan.

Dit het skaars moontlik gelyk dat die klein meganisme in my hand presies tyd kon hou met die reuse masjinerie wat ‘n hele toringvertrek gevul het, maar die bewys was voor my. Ek het na die twee pare wysers van sulke uiteenlopende afmetings gekyk. Soos nooit tevore nie het ek verstaan dat die mees onbelangrike mens hier op aarde wat skoon, in ‘n goeie werkende toestand en goddelik beheer is, met God self ingestel kan wees. “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.”

WORD VERVUL MET DIE GEES

Ek het te perd tussen Melbourne en my huis gery en dikwels by ‘n trog langs die pad stilgehou sodat die perd water kon drink. Die trog was altyd vol water. Ek het gemerk dat daar aan die een kant ‘n pyp en ‘n vlotterklep was met ‘n bal wat op die water gedryf het. Soos wat die perd gedrink en die watervlak gedaal het, het die bal gesak en die klep oopgemaak. Water het dan van die reservoir af op die rantjie na die trog gevloei om dit vol te hou sodat die dorstige diere kon drink.

Dit is ook so met die siel van die gelowige. Ongeag wat die uitvloei na die omringende leegheid mag wees, of die onttrekking deur dorstige, behoeftige siele, is daar altyd ‘n konstante “volheid”. Die uitvloei is direk van die invloei afhanklik, en ons kan alleen gee soos wat ons ontvang. Ons plig is net om toe te sien dat die verbinding tussen ons en die oneindige reservoir van genade op die berg van Here deur geloof, Bybelstudie en gebed skoon en in ‘n goeie werkende toestand gehou word. Dan sal ons altyd met die volheid van God vervul wees, ongeag wat die geestelike dreinering op ons is. Dit gaan nie oor ons vermoë om te behou nie, maar oor God se oneindige voorsiening in elke behoefte van ons.                                                             – John MacNeil

‘N DEFINISIE VAN VOLMAAKTHEID

John Fletcher het Christelike volmaaktheid as ‘n konstellasie beskou wat uit die volgende sterre van genade bestaan:

·      Volmaakte bekering.

·      Volmaakte geloof.

·      Volmaakte nederigheid.

·      Volmaakte selfverloëning.

·      Volmaakte aflegging van die ou lewe.

·      Volmaakte hoop.

·      Volmaakte liefde vir alle mense – ook vir ons vyande.

·      Volmaakte liefde vir ons onsigbare God.

 

3. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid

Sleutelteks

"Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie" (2 Pet. 1:10).

Sentrale waarheid

Die ontwikkeling van ‘n heilige karakter is ‘n daaglikse proses.

Les

1 Korinthiërs 3:1-3

1 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.

2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,

3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?

2 Petrus 1:3-8

3 Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,

4 waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.

5 En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis,

6 en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug,

7 en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.

8 Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie.

Efésiërs 4:13-16

13 Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus;

14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die berdieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;

15 maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,

16 uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Heiligheid van hart en lewe is ‘n krisis én ‘n proses. Dit is beide oombliklik en progressief. Die werk van die reiniging van sonde wat “die God van die vrede” doen, word op ‘n sekere tydstip voltrek. Die ontwikkeling van ‘n karakter en gedrag wat in ooreenstemming met hierdie toestand van reinheid is, word nie in ‘n oomblik of in ‘n dag gedoen nie. Dit is ‘n proses wat jou hele lewe lank sal duur.

Sekere mense dink verkeerdelik dat Christelike volmaaktheid, wat die liefde van God in ‘n hart is wat deur die Heilige Gees vervul is, enige moontlikheid van geestelike groei uitskakel. Die reiniging en vervulling met die Heilige Gees rus ‘n mens in werklikheid net toe en berei jou vir ‘n vinnige groei in genade voor. Dit kan vergelyk word met die herstel van ‘n liggaam se gesondheid as ‘n vereiste vir fisiese groei, of die verwydering van onkruid uit ‘n tuin as ‘n voorwaarde vir vinniger groei.

Die mees heilige persoon moet voortgaan om in die genade te groei en ‘n karakter en lewe te bou wat die goddelike natuur binne-in hom weerspieël. Ons kan nie verbeter op wat God gedoen het nie, maar dit kan meer getrou gedemonstreer word in on ons uiterlike gedrag en voortgesette groei “in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18).

1. Die dilemma van geen groei nie (1 Korinthiërs 3:1-3)

En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus (v. 1). Indien die vleeslike natuur wat in vyandskap teenoor God is, toegelaat sou word om in ‘n mens se hart voort te bestaan, sal dit alle groei in genade dwarsboom. Die vleeslike natuur wat teen die Heilige Gees in die gelowige stry, sal die einde van die persoon se geestelike lewe meebring as hy nie vernietig word nie (Rom. 6:6 en 8:6-7).

Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie (v. 2). Een van die simptome van ‘n aangetaste liggaam is die verlies aan eetlus vir goeie, sterk, voedsame kos. Verdorwenheid in die hart sal die begeerte aan geestelike voedsel neutraliseer.

Omdat julle nog vleeslik is (v. 3). Gelowiges is vleeslik totdat hulle hulself verootmoedig, hulle vleeslike toestand bely, en hulle geloofsvertroue in die reinigende werk van die versoeningsbloed van Christus stel. Hierdie vleeslike Christene het baie goeie eienskappe gehad wat in 1 Korinthiërs 1 genoem word. Hulle het egter ook besliste vleeslike eienskappe gehad, waaronder jaloersheid, twis en tweedrag. Paulus het gesê dat dit aanduidings van geestelike verdorwenheid is. Hy het nie gesê dat hierdie toestand as normaal aanvaar moes word omdat daar niks meer vir ‘n Christen is nie. Hy het het hulle geestelike toestand erg betreur, en in 2 Korinthiërs 1:15 die vertroue uitgespreek dat hulle tydens sy voorgenome besoek “’n tweede genade” sou ontvang.

2. Die volgorde van groei in genade (2 Petrus 1:3-8)

En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug… (v. 3-7). Adam Clarke skryf oor hierdie gedeelte: “Deug. Die moed en vasberadenheid om jou geloof in tye van verdrukking voor ander mense te bely. Kennis. Die ware wysheid waardeur jou geloof sal toeneem en jou moed op die regte wyse toegepas sal word sonder om na onbesonnenheid te degenereer. Selfbeheersing. Die korrekte en beperkte gebruik van aardse genietinge, terwyl die sinne onder beheer gehou word en die dierlike deel daarvan nie toegelaat word om die rede te oorheers nie. Lydsaamheid. Om alle toetse en probleme in dieselfde gesindheid te verdra en deur dit alles te volhard. Godsvrug. Liefde teenoor God – ‘n diep, eerbiedige, godsdienstige vrees waarin die dien van die Here nie net ‘n uiterlike daad is nie, maar ‘n innerlike toewyding om Hom in jou te hart te bewonder, lief te hê en groot te maak. Broederliefde. Dit is ‘n sterk band met die gemeente van die Here, waarin Christene mekaar onderling as lede van dieselfde liggaam ervaar. Naasteliefde. Liefde teenoor almal, selfs jou vervolgers. Die ware godsdiens is nooit selfsugtig of geïsoleerd nie. Waar die liefde van God is, kan daar geen bekrompenheid wees nie. Eng, selfsugtige mense wat ‘n partyskap vorm en skaars enige hoop vir die redding van diegene het wat nie glo soos wat hulle glo nie, het nouliks enige godsdiens. In hulle eie oë is niemand egter so behoudend en godsdienstig as hullself nie.”

Petrus moedig ons dus aan om een gesindheid ná die ander in ‘n wonderlike orde by te voeg totdat dit volledig is en die Christelike lewe met alle deugde toegerus is. Elke genade wat verkry is, help ons om ander genades te vervolmaak.

Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem (v. 8). Indien iemand in hierdie toevoegings of ontwikkelingsproses toeneem kan hy nie, wat homself én andere betref, ledig en onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus wees nie.

13. Die doel met groei (Efésiërs 4:13-16)

Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God (v. 13). Die uiteindelike geestelike doel van die kerk begin by die eenheid van die geloof. Die geloof wat hier bedoel word, is die inhoud van die evangelieboodskap in sy volledigste vorm. Die eenheid van gelowiges is onmoontlik tensy dit op die fondament van ‘n gemeenskaplik aanvaarde waarheid gebaseer is. God se waarheid is nie gefragmenteerd en teen homself verdeeld nie. Wanneer die kinders van God verdeeld en gefragmenteerd is, beteken dit bloot dat hulle tot dieselfde mate van sy waarheid afgewyk het.

Sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word (v. 14). Die onvolwasse Christen is baie naïef en onbestendig in sy oortuigings. In die geskiedenis van die kerk is daar nie ‘n groep gelowiges wat in die naam van die Christendom in meer dwaashede verval het as vandag se kerk nie. Ten spyte van ons ongeëwenaarde onderwys, gesofistikeerdheid, vryheid, toegang tot God se Woord en goeie Christelike opleiding, lyk dit of enige godsdienstige misleier en bloedsuier ‘n geredelike gehoor én finansiële ondersteuning onder Christene kan kry. Die aantal dwase, verdwaalde, korrupte en selfs ketterse leiers aan wie baie kerkmense bereid is om hulle geld en lojaliteit te gee, is verstommend en hartverskeurend. Die Christen wat behoorlik toegerus is, sal nie sulke misleiding, bedrog en sluheid ten prooi val nie.

Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom (v. 15). Dit is ‘n beginsel wat op elke aspek van ‘n Christelike lewe en bediening betrekking het. Volwasse gelowiges wie se lewe deur liefde gekenmerk word, sal nie die slagoffers van valse leringe wees nie. Hulle geestelike lewe sal eg wees en hulle sal die ware evangelieboodskap aan ‘n misleiende en misleide wêreld verkondig. Die kerk se werk van evangelisasie en geestelike opbouing sal voortgaan totdat die Here kom. Die geestelik toegeruste kerk, waarvan die lede leerstellig suiwer is en volwasse in hulle denke en lewe, is die kerk wat in liefde sal uitreik om die boodskap van God se reddende genade te verkondig. Die Here rus ons nie toe om te stagneer nie, maar om te dien.

Uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee (v. 16). Elke uitdrukking in hierdie vers is uiters belangrik om die waarheid oor die doeltreffende funksionering van die liggaam oor te dra. Christus hou die liggaam bymekaar en laat dit funksioneer volgens die gawes wat in elke lid aanwesig is. Die geestelike bronne en gawes van die Heilige Gees vloei van die een lid na die ander, daarom moet hulle goed saamgevoeg en saamverbind wees sodat die vloei in die bediening van die hele liggaam tot groei kan lei. Waar kinders van die Here noue verhoudings in ‘n geestelike bediening het, werk die Here. Waar hulle nie intiem met mekaar saamwerk en getrou in die bediening van hulle genadegawes is nie, kan die Here nie werk nie. God verlang nie kreatiwiteit of slim planne nie, maar ‘n gewillige en liefdevolle toewyding tot diensbaarheid. Die somtotaal van hierdie waarhede is dat elke gelowige naby aan die Here Jesus moet bly, en sy geestelike gawes getrou moet gebruik in noue assosiasie met ander gelowiges met wie hy in kontak is. Deur toewyding en diens van hierdie aard sal die krag van die Here ongehinderd vloei om die liggaam van Christus in liefde op te bou.

Kommentaar oor die Sleutelteks

Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie (2 Pet. 1:10).

Daarom… des te meer. Eerder as om vir hierdie geestelike genades (v. 5-7) blind te wees, moet ons ywerig daarna streef. Deur dit te doen, word ons verkiesing vasgemaak. Hierin sien ons voorwaardelike ewige sekerheid. Diegene wat nalaat om toegewyd die genades tot hulle geestelike lewe toe te voeg waarvan Petrus praat, verloor hulle verkiesing. Vroeër of later sal hulle vind dat sonde weer die oorhand oor hulle gekry het (kyk v. 9). Maar “as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.”

In sy onderrig het Jesus van ‘n bruilofsgas gepraat wat nie nougeset aan sy gasheer se vereistes voldoen het nie (Matt. 22:11-14). Hy was tussen die genooides, hy het op die uitnodiging gereageer, en hy sou tot finale goedkeuring verkies gewees het indien hy aan die koning se standaard vir ‘n bruilofskleed voldoen het. Met die aanvaarding van die uitnodiging was daar ‘n duidelike verstandhouding dat die gaste die aanvaarbare drag moes aanhê. Daar is diegene wat glo dat God só groothartig is dat Hy enigeen wat probeer het om ‘n goeie lewe te lei en dus nie té sleg is nie, sal aanvaar. Die Bybel bied geen hoop van hierdie aard aan nie. Jesus het gesê: “Baie is geroep, maar min uitverkies.” Die duidelike implikasie hier is dat diegene wat nie uitverkies is nie, die mense is wat nie toegewyd God se wil gedoen het nie.

Ja, daar ís die gevaar om geestelik tot ‘n val te kom. Judas het deur sy oortreding geval, en hy was ‘n apostel. In 1 Korinthiërs 10 beskryf Paulus die mislukkings van Israel, en rig dan die vermaning: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (v. 12). Selfs al is daar die gevaar van val, is dit glad nie nodig om dit te doen nie. Dit is nie ‘n vraag of jy in staat sal wees om staande te bly of nie, maar of jy God se genademiddels aanvaar waardeur Hy sy dienskneg in staat stel om staande te kan bly, want “God is magtig om hom staande te hou” (Rom. 14:4).

Die Here roep ‘n mens, en dit is jou plig om daardie roeping ywerig te volg. Hy roep alle mense tot die ewige lewe, maar dit beteken nie dat jou persoonlike verhouding met Hom onvoorwaardelik vir ewig is nie. Om hierdie rede het Petrus nougesetheid in die bou van ‘n Christelike karakter bepleit nadat ‘n persoon die krisisondervinding van wedergeboorte en heiligmaking deelagtig geword het. Getrouheid hierin verseker aan jou die finale verkiesing tot heerlikheid. Soos wat ons deug by kennis voeg, ens., sal die Here genade en vrede vir ons vermeerder (v. 2). Sy vermeerdering oortref by verre die mens se byvoeging.

Leerstellige Bespreking

Die noodsaaklikheid van groei in genade sou nie so onduidelik gewees het as dit nie was dat mense die begrippe “genade” en “groei” verkeerd verstaan nie. ‘n Eenvoudige illustrasie sal help om dié probleem te verduidelik. Niemand verwag ooit van ‘n volmaakte, pasgebore baba om ‘n boek te kan skryf oor sy toetrede tot die wêreld, of om volwasse gevoelens daaroor te hê nie. Tóg lyk dit of baie mense van ‘n pas geheiligde persoon verwag om onmiddellik dieselfde volwasse etiek, getrouheid in toewyding, en idees oor kultuur en gebruike te hê as wat hulle het. Die Here sê vir ons in Romeine 12:2 dat ons “verander” moet word, maar daar is nêrens in die Bybel ‘n maatstaf om ‘n persoon se geestelike groei te meet nie. Dit is baie beter om ons ervaring van volkome heiligmaking op die getuienis van geloof en vrugte te baseer. Dit is die essensie van wat Wesley hieroor gesê het.

Een strik waarin geheiligde persone soms beland, is om hulle doeltreffendheid te meet aan dit wat andere bereik het nadat hulle met die volheid van God vervul is. In sy boek, Love Enthroned, sê dr. Daniel Steele dat die vervulling met die Heilige Gees en die doeltreffendheid van die gelowige ‘n onderwerp van intense belang vir alle Christene is. Dit word soms aanvaar dat die oorvloedige uitstorting van die Gees op die gelowige aan hom iets soos ‘n elektriese lading sal gee. Dit sal dan skokgolwe na die sondaars laat uitgaan wat hulle sal laat bewe, platval en om genade laat roep soos wat duisende mense onder die prediking van Petrus op Pinksterdag gedoen het. Steele sê dat sulke verskynsels baie seldsaam is, en noem in sy boek enkele gevalle waar dit gebeur het, bv. onder die prediking van Charles Finney en “Father” Carpenter van New Jersey.

Hy voeg by dat dit meer verg om ‘n siel in die liefde van Christus te bevestig as om hom tot bekering te lei. Predikers wat só ‘n bediening het, het ‘n hoër gawe as evangeliste wat sondaars tot bekering lei.

Ons moet aanhou om in ál die gawes van die Gees te groei nadat ons met die Heilige Gees vervul is. Dit beteken dat baie mense wat volkome heilig gemaak is, sal moet leer dat liefde ons getrouheid in die kleiner detail van ons lewe vereis, soos stiptelikheid, om stil te bly oor vertroulike inligting wat aan ons meegedeel is, en om ons pligte getrou uit te voer. Selfbeheersing is ook ‘n vrug van die Heilige Gees. Ons moet ons lewens ondersoek om vas te stel of ons vordering in die beheer van ons eetgewoontes, slaapgewoontes, gesprekke, ontspanning en ander sake maak waarop die Heilige Gees ons aandag vestig. Dit help nie om een deug sterk te beklemtoon as ‘n verskoning vir ander terreine waarop ons faal nie. Mag die Here ons help om in liefde te groei en op alle lewensterreine die vrug van die Gees te dra!

Dit is onmoontlik om al die aspekte op te noem waarin ons in liefde moet opgroei. Daar is bv. die terreine van etiek, genade vir die regte sosiale verkeer met mense, nougesetheid, ens. Liefde maak ons nie wetteloos nie, maar dit verleen aan ons die vryheid om alle Christelike genades binne die perke van die wet van die liefde te kan beoefen. u

Vrae en Antwoorde

As mense is daar baie dinge in die lewe wat ons nie weet nie. Die verlossing van sonde verander nie hierdie feit nie. ‘n Persoon kan ook die ervaring van hartsreiniging kry sonder dat dit met geestelike volwassenheid gepaad gaan. Daar moet eers oor tyd heen ‘n proses van geestelike groei wees voordat geestelike volwassenheid bereik sal word.

1. Noem sekere dinge wat geestelike groei sal bevorder.

a.   Bybelstudie. Die gereelde omgang met God se Woord is noodsaaklik.

b.   Gebed. Gereelde kommunikasie moet in gebed met God gemaak word.

c.   Wandel in die lig. God se weg moet gevind en bewandel word.

d.   Bediening. Om ‘n kanaal te wees waardeur God se liefde na ander toe vloei, bevorder ook geestelike groei.

2. Gee advies oor hoe om Bybelstudie effektief vir geestelike groei te maak.

Dit is belangrik om te onthou dat Bybellees nie opsioneel is nie, maar ‘n voorreg en ‘n vereiste (Ps. 119:11). Die Bybel is ‘n bron van geestelike kennis, leiding, bemoediging en hulp. Dit het antwoorde op die probleme waarmee ons te doen het. Dit verleen insig oor God se wil vir ons lewe. Dit lig ons oor toekomstige gebeure in, bied hoop aan die kind van God en waarskuwings aan sondaars.

Elke persoon moet ‘n vaste en gereelde Bybelleesprogram hê. Mense verskil in baie opsigte van mekaar. Sommige is oggendmense en ander is aandmense. Elkeen moet in sy besondere omstandighede vir hom die beste tyd bepaal om Bybel te lees. ‘n Ernstige poging moet aangewend word om die Bybel daagliks in ‘n tyd te lees wanneer jy goed kan konsentreer en helder kan dink.

Die lengte van die gedeeltes wat gelees word, mag van tyd tot tyd verskil. Dit sou wys wees om te begin deur verskeie verse per dag te lees en ‘n vaste patroon te vestig. Dit sou bv. beter wees om gemiddeld 10 verse per dag te lees, as om vir twee dae 100 verse te lees en daarna vir dae lank niks nie. Dit mag moeilik wees om 100 verse per dag te lees, en dit kan daartoe lei dat jy heeltemal ophou om Bybel te lees. Sommige mense lees maklik en kan sonder moeite ‘n paar hoofstukke per dag lees. Ander mag sukkel om net ‘n paar versies onder die knie te kry. Ongeag wat jou eie situasie is, vestig net vir jou ‘n vaste, daaglikse program van Bybellees.

Gebed, afgewissel deur Bybellees, kan jou ook help om geestelik te groei. Vra aan die Here om dinge uit sy Woord aan jou te openbaar. Lees die Bybel met ‘n oop, ontvanklike gemoed terwyl jy na God se wil soek.

Lees die Bybel in die verband waarin dit geskryf is. Dit sal soms nodig wees om ‘n hele hoofstuk, of ‘n hele verhaal, te lees voordat ‘n betrokke vers goed verstaan sal word. Die Bybel kan baie dinge “sê” as dit buite verband aangehaal word. Daar sal altyd teen verkeerde vertolkings gewaak moet word.

Dit is altyd goed om Bybelgedeeltes te memoriseer. Hierdie gedeeltes mag handig te pas kom om ons deur probleme te help wanneer daar nie ‘n Bybel byderhand is nie.

Dit is noodsaaklik om toe te pas wat die Here se Woord ons leer. Baie hartseer en probleme kan vermy word, en veel wat goed is kan bereik word as ons aan die Bybel gehoorsaam is.

3. Hoe kan ons gebed in ons geestelike groei effektief maak?

Gebed is kommunikasie met God. Dit behels praat én luister. Vir ‘n beperkte mens met al sy tekortkominge, swakhede en versoekings is gebed ‘n belangrike skakel met ‘n onbeperkte God wat gewillig is om hom te help. God ken ons behoeftes, maar Hy wil hê dat ons ons afhanklikheid van Hom moet bely.

Die beoefening van ‘n gereelde gebedslewe is baie belangrik. Dit is maklik vir jong bekeerlinge om baie ongeestelik te voel omdat ouer bekeerlinge twee of drie ure per dag bid, terwyl hulle self net tien minute bid. Die duiwel wil hê dat só ‘n persoon ontmoedig sal voel en heeltemal ophou om te bid. Streef daarna om die tien minute oor tyd heen tot 20 of 30 minute per dag, of selfs meer, te verleng. Dit is beter om elke dag ‘n bietjie te bid as om vir ‘n dag of twee baie te bid en dan vir dae lank glad nie te bid nie. Die lengte van die gebed is ook nie die kritieke saak nie, want dit moet vir jou gaan om met God te praat en van Hom te hoor.

Wanneer jy bid, moet jy openhartig en eerlik met God praat. Niks is vir Hom bedek nie, daarom is die erkenning van probleme en behoeftes heeltemal in orde. Bespreek alle aspekte van jou lewe met God, en slaan ook ag op die antwoorde wat jy van Hom af kry.

Verskeie sake kan in gebed aangespreek word. In ‘n gedeelte van die gebed behoort God geëer te word vir wie Hy is. Hy is ons eer waardig. ‘n Ander deel van gebed is die belydenis van sonde aan God, sodat sy vergifnis verkry kan word. ‘n Deel waarmee ons baie goed bekend is, is om ons gebedsversoeke aan God te rig. Hy kan en wil ons help. ‘n Gebed moet ten laaste ook danksegging insluit vir dit wat God gedoen het en nog sal doen.

Geloof moet beoefen word om ‘n gebed effektief te maak. Dit is een ding om te glo dat God gebed kan verhoor, maar heeltemal iets anders om te glo dat Hy dit sál doen! Daar is baie beloftes in die Bybel wat in die geloof aangeneem kan word. As God iets beloof het, kan ons dit vra indien ons aan sy voorwaardes voldoen.

4. Hoe kan ons geestelik groei deur in die lig te wandel?

Geestelike lig kan as godgegewe leiding aan die mens gedefinieer word. Dit kan deur Bybelstudie verkry word, of in tye van gebed. Hierdie lig kom nie van die mens af, soos sommige dink nie. God kan predikers of ander mense gebruik om deur hulle te praat wanneer Hy lig gee, maar die lig self kom van Hom af.

Hierdie lig moet begeer word. Dit help nie om vooraf te besluit wat jy wil doen, en dan om die Here se lig of leiding te bid nie, want dan sal dit min of geen invloed op jou lewe hê nie. God is lig en ook die bron van lig. Hy weet hoe om elke mens te lei, sy voetstappe te rig en hom te ondersteun. Baie van hierdie voorskrifte word in sy Woord gegee, en is ‘n verdere rede vir Bybelstudie. Hy skep ook oortuigings in jou hart tydens gebed, en dit is nóg ‘n rede om te bid.

Wanneer God aan ‘n persoon lig oor ‘n sekere saak gee, moet hy besluit hoe om daarop te reageer. Hy kan dit verwerp en teen die lig wandel, dan sal hy uiteindelik deur die lig verblind word en in die duisternis wandel. Wat dan in ‘n stadium verkeerd was, sal as gevolg van sy gebrek aan geestelike insig nie meer vir hom verkeerd lyk nie. Elkeen moet net onthou: reg is reg en verkeerd is verkeerd, ongeag hoe ons daaroor redeneer. Aan die ander kant kan lig aanvaar en gevolg word. Dit moet elke persoon se doel wees om God se wil vas te stel en dit te doen.

Dit mag soms moeilik wees om God se wil oor ‘n sekere saak te bepaal. Spreuke 3 sê dat ons God in al ons weë moet ken, dan sal Hy ons paaie gelyk maak. Volg altyd God se wil. Wanneer daar onsekerheid en verwarring is, moet jy nie belangrike besluite neem nie, want Satan is die outeur van verwarring. Hou aan om God se wil te soek, want Hy sal elke ware kind van Hom lei. Volg die lig tree vir tree en moenie oor môre, volgende week of volgende jaar bekommerd wees nie.

5. Hoe kan ‘n bediening aan ander my geestelik laat groei?

Geestelike groei kan ervaar word deur God se liefde en sy verlossingsplan met ander te deel. Die tweede gebod wat Jesus gegee het, is om jou naaste soos jouself lief te hê. Pogings moet aangewend word om vriende te wen, maar, meer belangrik nog, om mense vir die Here te wen. Soos wat Bybelstudie en gebed gedoen word om ‘n boodskap aan ander te bring, groei ons self ook geestelik op.

‘n Ander terrein wat in ag geneem moet word in verband met ‘n meer doeltreffende bediening, is geestelike gawes. Elkeen moet met die Here se hulp bepaal wat sy gawe(s) is, en hoe dit in ‘n bediening teenoor ander gebruik kan word. Tegniese kennis en ander vaardighede kan ook gebruik word om mense te help en ter wille van Christus vriendskappe te sluit.

Probeer om altyd positief te wees. Daar ís sekere situasies in die lewe wat negatief is, maar ‘n algemene positiewe gesindheid is baie meer oortuigend van die regte verhouding met Christus.

Streef altyd daarna om reg voor ander mense te leef. Een swak plek in jou mondering kan groot probleme en ‘n beskadigde geloofwaardigheid tot gevolg hê, wat moeilik reggestel sal word. Wees getrou in alle take wat aan jou opgedra is, ongeag hoe klein hulle is. Aan ‘n persoon wat in geringe take getrou is, sal later groter take opgedra word. Indien hy in kleiner take faal, dan verdien hy nie om met groteres vertrou te word nie.

‘n Kind groei nie oornag tot ‘n volwassene op nie. ‘n Jong bekeerling groei ook nie oornag tot ‘n geestelik volwasse Christen nie. In beide gevalle neem dit tyd en toewyding. Vir hulle wat volkome aan God se wil en weg toegewy is, sal groei volg!

MEER HEILIGHEID

Meer heiligheid gee my, Meer gloed in my hart, Meer troos in beproewing, Oor sonde meer smart! Meer steun op my Heiland, Meer trou op Hom let, Meer vreugde in arbeid, Meer krag in gebed! Meer dankbaarheid gee my, Meer rus in die Heer, Meer drang tot sy glorie, Meer roem in sy eer. Meer smart oor sy droefheid, Meer heil uit sy wet, Meer moed in beproewing, Meer lof waar Hy red! Meer reinheid, o skenk my, Meer krag om te win, Meer vryheid van bande, Meer hemelse sin! Meer vrug in u diens, Heer, Meer werk vir u ryk, Meer werksaam en heilig, U, Heer, meer gelyk!             – Hallelujalied 314
AW Tozer 22