Print

Soos Christus

Written by Prof Johan Malan.

Andrew Murray

Opsomming: Hierdie artikel bestaan uit geselekteerde gedeeltes van dr. Andrew Murray se boek: “Soos Christus – die ontwikkeling van Jesus se karakter in jou lewe.” Die boek is teen die einde van die 19de eeu in Wellington in die Wes-Kaap geskryf. ‘n Geredigeerde weergawe van die volledige boek is in 1981 deur Whitaker House in Springdale, Pennsylvania gepubliseer. Hierdie verkorte weergawe is deur Johan Malan uit die Engels van die 1981 uitgawe vertaal.

Inhoud

Voorwoord
Inleiding: die prediking van Christus as ons Voorbeeld

1. Soos Christus... omdat ons in Hom bly

2. Soos Christus... Hy self roep ons

3. Soos Christus... soos een wat dien

4. Soos Christus... ons Hoof

5. Soos Christus... om onregverdig te ly

6. Soos Christus... gekruisig met Hom

7. Soos Christus... in sy selfopoffering

8. Soos Christus... nie van die wêreld nie

9. Soos Christus... in sy hemelse sending

10. Soos Christus... in sy liefde

11. Soos Christus... in sy gebed

12. Soos Christus... in sy gebruik van die Skrif

13. Soos Christus... in vergifnis

14. Soos Christus... in sy nederigheid

15. Soos Christus... in die gelykvormigheid aan sy dood

16. Soos Christus... in die gelykvormigheid aan sy opstanding

17. Soos Christus... gelei deur die Gees

 

Voorwoord

Hierdie verkorte weergawe van Andrew Murray se boek, Soos Christus, is om verskeie redes baie belangrike leesstof vir ons tyd.

Die primêre doel van die boek is die verduideliking van die leer oor heiligmaking uit die oogpunt van ‘n Christus-gelykvormige lewe, waartoe almal van ons geroep is. Die lewe en sterwe van die Here Jesus was nie net ter wille van die versoening van ons sondes nie, maar ook as ‘n voorbeeld waaraan ons deur die krag van die Heilige Gees gelykvormig moet word. Hy is nie net ons Verlossing nie, maar ook ons Voorbeeld en Heiligmaking, wie se lewe in ons gestalte moet aanneem. Baie min Christene is met die nastreef van ‘n lewe soos dié van Jesus Christus besig, en is daarom nie in die ware sin van die woord dissipels en navolgers van Hom nie.

Uit die boek is dit baie duidelik dat die Christen se grootste struikelblok in sy opdrag om ‘n lewe soos dié van Christus te lei, sy ongekruisigde vlees is. Dit is die ou lewe wat nie afgelê en as dood gereken word nie, en steeds die oorsaak van baie sonde in sy lewe is. Só ‘n Christen het nog nie werklik en geheel en al aan die dood van die Here Jesus gelykvormig geword nie, en ervaar derhalwe nie die krag van sy dood en opstandingslewe nie.

Onder omstandighede soos dié sal dit nie help om in die krag van die vlees teen sonde, wêreldsgesindheid en die duiwel stryd te voer nie. Die vlees is die ou lewe wat wesenlik aan die wet van die sonde verbonde is. Dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie (Rom. 8:7). Ek móét volkome met die kruisdood van die Here identifiseer en sodoende die oue mens wat deur die begeerlikheid van die sonde ten gronde gaan, aflê en myself met die nuwe mens beklee (Ef. 4:22-24).

Baie van die vleeslike Christene laat egter ná om dit te doen en wend hulleself dan na onbybelse vorms van innerlike bevryding, die verbreking van “bloedlynvloeke” en geestelike oorlogvoering om van hulle probleme en sondige neigings ontslae te raak. Hulle laat duiwels uitdryf en vloeke verbreek, maar dit help niks nie omdat hulle nog nie die Bybelse weg gevolg het om volkome in die verlossingswerk van die kruis te roem en daarna in die krag van Christus se opstanding te lewe nie. Hierdeur doen hulle nie net aan die versoening afbreuk nie, maar gebruik ook vreemde geestelike tegnieke om oorwinning te behaal en die leer oor heiligmaking mee te vervang. Só beweeg die moderne Christendom van een dwaalweg na ‘n ander en kom nie by ‘n blywende oplossing vir hulle probleme uit nie.

Hierdie boek is ook die bevestiging van die Bybel as God se Woord wat vir ons ‘n betroubare openbaring van sy heilige wil is. Soos wat Jesus die Skrifte eerbiedig en sy beeld daarin gesien het, moet ons dit ook doen. In Hom is elke belofte van die Bybel ja en amen. Lees die boek aandagtig en volg in die voetspore van Hom wat die weg vir ons aangedui het.

Johan Malan

Inleiding: die prediking van Christus as ons Voorbeeld

“Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Gen. 1:26). In hierdie woorde waarmee die Skepper die Bybelse geskiedenis van die mens begin, het ons die openbaring van die ewige doel waaraan die mens sy bestaan te danke het – die heerlike, ewige toekoms waarvoor hy bestem is. Die Here het besluit om ‘n goddelike wese te maak, ‘n wese wat sy beeld en gelykenis sal wees, die sigbare openbaring van die heerlikheid van die Onsigbare Een.

Om ‘n wese te hê wat geskape en tóg soos God is, was ‘n taak wat ewige wysheid geverg het. Dit is die natuur en heerlikheid van die Here dat Hy absoluut onafhanklik van enigiets is. Hy het lewe in Homself en het sy bestaan aan niemand buite Homself te danke nie. Indien die mens soos God is, moet hy ook in hierdie opsig sy beeld en gelykenis wees – hy moet word wat hy uit sy eie vrye wil besluit het om te wees. Hy moet homself maak. Aan die ander kant is dit die natuur en heerlikheid van die mens om in alles van sy geseënde Skepper afhanklik te wees. Hoe kan hierdie teenstelling versoen word – ‘n wese wat afhanklik en tóg selfbepalend is, geskape en tóg goddelik? In die mens self word hierdie misterie opgelos. As mens gee God aan hom lewe, maar verleen ook aan hom die wonderlike mag van ‘n vrye wil. Dit is slegs in die proses van persoonlike en vrywillige toeëiening dat enigiets so hoog en heilig as gelykvormigheid aan God die mens se deel kan wees.

Toe sonde ingekom en die mens uit sy hoë roeping verval het, het God nie sy doel met hom laat vaar nie. Die sentrale gedagte van sy openbaring aan Israel was: “Wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44). Gelykvormigheid aan God in dit wat sy hoogste volmaaktheid behels, is die hoop van Israel. Verlossing het nie ‘n hoër ideaal as dit wat in die skepping geopenbaar is nie – dit kan slegs die ewige doel van God opneem en uitwerk.

Dit was met hierdie doel in gedagte dat die Vader die Seun na die aarde toe gestuur het as die uitdruklike beeld van Homself. In Hom is die God-gelykvormigheid waarvoor ons geskape is, en wat ons persoonlik moet aanneem om dit ons eie te maak, in menslike gestalte geopenbaar. Die begeerte na ons lank-verlore gelykvormigheid aan God moet opgewek word wanneer ons na Christus kyk. Daar was ‘n tweevoudige werk wat Christus moes doen om die hernuwing van ons beeld te bewerkstellig. Die een was om in sy lewe die gelykenis van God te vertoon sodat ons kan weet wat God-gelykvormigheid beteken, en ook te verstaan wat ons van Hom as ons Verlosser moet verwag en aanvaar. Toe Hy dit gedoen het, en aan ons die voorbeeld van ‘n God-gelykvormige lewe in menslike gedaante gegee het, het Hy gesterf. Hierdeur het Hy sy eie lewe in die gelykenis van God teruggekry en tot ons beskikking gestel, sodat ons in die krag daarvan volgens die beeld kan leef van dit wat ons in Hom gesien het.

Toe Hy na die hemel opgevaar het, was dit om aan ons deur die Heilige Gees die krag van daardie lewe te skenk wat Hy aan ons vertoon en weer verkry het om aan ons mee te deel. Die een is van die ander afhanklik. Wat Hy as ons Voorbeeld in sy lewe gewys het, het Hy as ons Verlosser deur sy dood gekoop om aan ons te kan skenk. Sy aardse lewe het die weg aangetoon. Sy hemelse lewe gee aan ons die krag om só te kan lewe. Wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Elkeen wat nie in die volle geloof van die verlossing staan nie, het nie die krag om Christus se Voorbeeld te volg nie. Wie dus nie na die gelykvormigheid van Christus se beeld as die groot doel van ons verlossing soek nie, kan nie die volheid van sy krag verkry nie. Die Here Jesus het op aarde geleef sodat Hy die beeld van God in sy lewe kon vertoon. Hy leef in die hemel sodat ons die beeld van God in ons lewens kan vertoon.

Die kerk van Christus het nie altyd die korrekte verband tussen hierdie waarhede erken en verkondig nie. In Protestantse kerke het die waarheid van God se vergewende en lewendmakende genade sy regmatige plek ingeneem. Die gevaar van eensydigheid is in die meeste gevalle egter nie vermy nie. Die leerstelling dat Jesus Christus nie alleen op aarde geleef het om vir ons redding te sterf nie, maar om ook aan ons te wys hoe ons moet leef, het nie voldoende prominensie verkry nie. Terwyl geen evangeliese kerk sal ontken dat die Here Jesus ons Voorbeeld is nie, word die absolute noodsaaklikheid om die voorbeeld van sy lewe na te volg, nie met dieselfde duidelikheid as vertroue in die versoening deur sy dood verkondig nie. Groot moeite word heeltemal tereg gedoen om mense te oortuig om die voordele van sy dood te aanvaar. Ongelukkig word daar nie ewe veel moeite gedoen om mense daarvan te oortuig dat hulle as die kenmerk van ware dissipelskap in die voetstappe van Jesus moet volg nie.

Dit is nouliks nodig om aan te toon watter invloed die manier waarop hierdie waarheid verkondig word, op die lewe van die kerk sal hê. Indien versoening en vergifnis alles is, en die Christus-gelykvormige lewe iets sekondêrs, is dit vanselfsprekend dat die aandag hoofsaaklik op eersgenoemde gevestig sal word. Dit sal tot ‘n neiging lei om terug te sit nadat vergifnis van sonde verkry is. Indien, aan die ander kant, gelykvormigheid aan die beeld van God se Seun die hoofdoelwit is, en die versoening ‘n middel om hierdie doel te verwesenlik, soos met die skepping van die mens in die vooruitsig gestel, dan sal dit altyd op die voorgrond gestel word wanneer daar oor bekering en vergifnis gepreek word. Geloof in Jesus en gelykvormigheid aan sy karkater sal dan as onafskeibaar beskou word. Só ‘n kerk sal ware volgelinge van die Here Jesus oplewer.

Protestantse kerke moet in hierdie opsig nog na die volmaaktheid voortgaan. Slegs dan sal die kerk haar pragtige kleed aantrek om die afskynsel van God se heerlikheid te wees – wanneer hierdie twee waarhede in die wonderlike eenheid nagestreef word waarin hulle in Christus se lewe voorkom. In alles wat Hy vir ons gely het, het Hy vir ons ‘n voorbeeld nagelaat sodat ons in sy voetstappe kan volg. Wanneer die banier van die kruis verhoog word, moet die versoening van die kruis en die vereenselwiging met die kruis as die voorwaarde vir ware dissipelskap, met dieselfde beklemtoning verkondig word.

Dit is opvallend hoe duidelik hierdie waarhede in die onderrig van die Here Jesus uitkom. Wanneer Hy oor die kruis praat, lê Hy meer klem op die vereenselwiging met die kruis as op die versoeningswerk daarvan. Hy het dikwels aan sy dippels gesê dat hulle dit saam met Hom en soos Hy moet dra. Slegs op hierdie wyse kon hulle dissipels wees en deel in die seëninge wat kruisdra meebring. Dit is nie net Ek wat moet sterf nie, het Hy gesê, maar julle ook. Die kruis, wat die simbool van daaglikse selfverloëning is, moet die kenmerk van ons verbondenheid met Christus wees.

Dat Christus die kruis vir ons gedra het, is nie al nie – dit is net die begin van sy werk. Dit is slegs die begin van die openbaring van wat die kruis kan doen as ons in ‘n lewenslange gemeenskap met die Gekruisigde Een leef. In ons daaglike lewe moet ons ondervind en bewys wat dit is om vir die wêreld gekruisig te wees. Nogtans is daar al baie goeie preke gepreek waarin daar in die dood van Christus aan die kruis vir ons geroem word, maar die feit dat ons saam met Hom moet sterwe, waarin Paulus so geroem het, word heeltemal vergeet!

Die belangrikste rede waarom gelykvormigheid aan Jesus so min gesien word, en so min deur die meeste Christene nagestreef word, kan ongetwyfeld toegeskryf word aan verkeerde sienings oor ons swakheid, en ook ons onvoldoende verwagting oor wat goddelike genade in ons kan bewerk. Mense het só ‘n sterk geloof in die krag van sonde, en só ‘n swak geloof in die krag van genade, dat hulle summier die gedagte verwerp dat ons net so liefdevol, net so vergewensgesind en net so toegewyd aan die eer van Vader as Jesus kan wees. Hulle dink daaraan as ‘n ideaal wat bokant ons vermoë is – baie mooi, maar onbereikbaar. Hulle wys altyd op hulle eie mislukkings in pogings om hulle humeur te beteuel en ten volle vir God te leef, as ‘n bewys dat dit nie gedoen kan word nie.

Dit is slegs deur die volgehoue prediking van Christus as ons Voorbeeld, in al die volheid en heerlikheid van hierdie geseënde waarheid, dat ongeloof van dié aard oorkom sal word. Gelowiges moet geleer word dat God nie oes waar Hy nie gesaai het nie, en dat die vrugte en die wortel in volkome harmonie is. God verwag van ons om presies net soos Christus te dink en te streef, omdat die lewe wat in ons is, presies dieselfde is as dié wat in Hom was. Ons het ‘n lewe soos syne in ons. Wat is meer natuurlik as dat ons uiterlike lewe ook soos syne moet wees? Christus wat in ons lewe, is die wortel en krag van Christus wat deur ons werk en praat. Hy skyn deur ons om in die wêreld gesien te kan word.

1. Soos Christus... omdat ons in Hom bly

“Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6).

Om te bly in Christus en te wandel soos Christus is twee seëninge van die nuwe lewe wat hier in hulle wesenlike eenheid aangebied word. Die vrug van ‘n lewe in Christus is ‘n lewe soos Christus.

Die eerste van hierdie twee uitdrukkings, bly in Christus, is glad nie vir ons vreemd nie. Die wonderlike gelykenis van die wynstok en die lote, met die gepaardgaande opdrag: “Bly in My, soos Ek in julle” (Joh. 15:4), was al dikwels vir ons ‘n bron van ryke onderrig en vertroosting. Hoewel ons voel dat ons nog maar net in ‘n geringe mate die les geleer het om in Hom te bly, het ons nogtans iets van die blydskap ervaar wanneer die siel kan sê: “Here, U weet alles. U weet dat ek in U bly.” Hy weet ook hoe dikwels die ernstige gebed in jou binneste opgaan: “Geseënde Here, skenk aan my die volkome, onafgebroke gemeenskap met U.”

Die tweede uitdrukking, wandel soos Christus, is nie minder belangrik as die eerste een nie. Dit is die belofte van die wonderlike krag wat deur ‘n lewe in Hom bewerk sal word. As die vrug van ons oorgawe om volkome in Hom te leef, werk sy lewe só kragtiglik in ons dat ons wandel – die uiterlike uitdrukking van ons innerlike lewe – soos syne word. Die twee is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Die bly in gaan altyd die wandel soos vooraf. Die hemelse Gewer sal die volheid van sy genade verleen as Hy sien dat ‘n persoon oorgegee is om dit volgens sy wil te gebruik.

Daar is twee belangrike lesse om van hierdie nou verwante waarhede te leer:

Die eerste les wat hulle leer, is: Hy wat in Christus wil bly, behoort self ook te wandel soos Hy gewandel het. Ons weet dat ‘n loot dieselfde vrugte dra as die wynstok waaraan dit behoort. Die lewe van die wynstok en dié van die loot is so volkome identies dat die openbaring van daardie lewe ook identies moet wees. Toe die Here Jesus ons met sy bloed vrygekoop het, en ons aan die Vader in sy geregtigheid voorgestel het, het Hy ons nie in ons ou natuur gelaat om God te dien so goed as wat ons kan nie. Nee, in Hom is die ewige lewe – die heilige, goddelike lewe van die hemel – en elkeen wat in Hom is, ontvang daardie selfde lewe as sy heilige, hemelse krag.

Die magtige lewe van God in die siel werk egter nie as ‘n blinde krag wat ons onwetend of onvrywillig dwing om soos Christus op te tree nie. Inteendeel, ons wandel in Hom moet die gevolg van ‘n doelbewuste keuse wees wat uit ‘n sterk begeerte voortspruit en deur ‘n aktiewe wilsbesluit aanvaar word. Met die oog hierop het die Vader deur Jesus se aardse lewe aan ons gewys hoe die hemelse lewe is wanneer dit in die omstandighede van ons aardse lewe geopenbaar word. Die aardse lewe van ons Meester is die reël en riglyn vir al ons optredes. As ons in Jesus bly, dan mag ons nie anders optree as wat Hy gedoen het nie. “Soos Christus” gee in een, allesinsluitende uitdrukking die geseënde wet van die Christelike lewe. Ons moet dink, praat en optree soos wat Jesus gedoen het.

Die tweede les is aanvullend tot die eerste een: Hy wat daarna streef om soos Christus te wandel, moet in Hom bly. Sommige Christene het ‘n eerlike begeerte om Christus se voorbeeld te volg, maar hulle besef nie hoe onmoontlik dit is om sonder ‘n diepe en werklike eenheid met Hom só te leef nie. Hulle misluk omdat hulle die hoë opdrag om soos Christus te leef, wil gehoorsaam sonder die krag om dit te kan doen – die lewe in Christus. Ander maak weer die teenoorgestelde fout. Hulle ken hulle eie swakheid en kom in die lig daarvan tot die gevolgtrekking dat dit onmoontlik is om soos Christus te wandel. Diegene wat na hierdie lewe soek, en misluk, het dié les net so nodig as Christene wat dit nie soek nie omdat hulle verwag om te misluk. Om soos Christus te kan wandel, moet ons in Hom bly. Hy wat in Christus bly, het die krag om soos Hy te wandel; nie in homself of sy eie pogings nie, maar in Jesus wat sy krag in ons swakheid volbring.

Dit is wanneer ek ten diepste van my eie swakheid bewus is, en ten volle die Here Jesus in sy wonderlike eenheid met my en my lewe aanvaar, dat sy krag in my sal werk. Dan is ek ten volle in staat om ‘n lewe te lei wat bokant my eie krag is om te vermag. Ek begryp dan dat om in Hom te bly, nie net vir spesiale oomblikke of tye bedoel is nie, maar ‘n volledige lewenswyse is waarmee ek, deur sy genade, sonder ‘n oomblik se onderbreking moet voortgaan. Ek word bemoedig om Hom regtig as my volkome voorbeeld te aanvaar omdat ek seker is dat die verborge, innerlike eenheid en gelykvormigheid aan Christus in my handel en wandel in ‘n sigbare gelykvormigheid aan Christus sal uitwerk.

Liewe leser, as God tydens ons oordenking aan ons genade gee om waarlik die betekenis van sy woorde te aanvaar, en dit wat hulle oor ‘n lewe in Christus aan ons leer, sal ons meer as een keer uitroep: “Hoe kan dit waar wees?” Wanneer die Heilige Gees die hemelse volmaaktheid van die menslikheid van onse Here Jesus as die beeld van die onsienlike God openbaar, en sê: “so moet julle ook wandel,” is ons eerste reaksie gewoonlik om te besef hoe ver ons van Hom af is. Ons mag selfs geneig wees om alle hoop te laat vaar en saam met so baie ander te sê: “Dit help nie eers om te probeer nie, ek kan nie soos Jesus wandel nie.” In sulke oomblikke sal ons krag kry in die boodskap: “Hy wat in Hom bly, moet en kan ook so wandel soos Hy gewandel het.” Die woorde van die Meester sal met nuwe betekenis as die versekering van voldoende krag na ons toe kom: “Hy wat in My bly, dra veel vrug.”

Broeders en susters, bly in Hom! Elke gelowige is in Christus, maar nie almal bly in Hom in die bewuste, blye en gelowige oorgawe van hulle hele wese aan die beheer en invloed van Christus nie. Julle weet wat dit is om in Hom te bly. Dit is om met jou hele siel in te stem dat Hy jou lewe is, om op Hom te vertrou om jou in al jou lewensomstandighede te inspireer, en om alles oor te gee sodat Hy in ons kan heers en werk. Dit is om te rus in die volle versekering dat Hy elke oomblik in ons sal uitwerk wat ons moet wees. Hy self help ons om daardie volmaakte oorgawe te behou waarin Hy vry is om sy volkome wil in ons te doen.

Gebed: “Geseënde Verlosser, U weet hoe dikwels ek gesê het: Here, ek bly in U! Tóg voel ek soms dat die volle vreugde en krag van ‘n lewe in U ontbreek. U woord het vandag aan my geopenbaar wat die rede vir my mislukking kan wees. Ek het meer vir my eie gemak en groei as vir u eer daarna gestreef om in U te bly. Ek het nie ten volle begryp hoedat die verborge eenheid met U as sy doel gelykvormigheid aan U het nie. Ek het nie besef dat slegs hy wat homself ten volle oorgee om so volledig aan die Vader gehoorsaam te wees en Hom te dien soos wat U gedoen het, alles ten volle kan ontvang wat die hemelse liefde vir hom kan doen nie. Here, dankie vir hierdie ontdekking. Met my hele hart aanvaar ek u roeping en gee myself oor om in elke opsig te wandel soos wat U gewandel het. Die groot begeerte van my hart is om u getroue volgeling te wees in alles wat U op aarde gewees het en gedoen het. Geseënde Here, hy wat waarlik homself oorgee om soos U te wandel, sal genade verkry om volkome in U te bly. O my Here, hier is ek om soos Christus te wandel, en hiervoor wy ek myself aan U toe. In volle geloofsversekerdheid vertrou ek U om in Christus te bly. Vervolmaak in my u eie werk. Mag die Heilige Gees my elke heer help wanneer ek daaroor dink wat dit is om te wandel soos U, en om aan die geseënde waarheid vas te hou dat as iemand wat in Christus bly, ek die krag het om soos Hy te wandel. Amen.”

2. Soos Christus… Hy self roep ons

“Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen” (Joh. 13:15).

Dit is Jesus Christus, die geliefde Verlosser van ons siele, wat só sê. Hy het Homself kort voor hierdie stelling verneder om die werk van ‘n slaaf te doen deur die voete van sy dissipels te was. Hierdeur het Hy aan sy volgelinge getoon watter diens daar by die Nagmaaltafel ontbreek het. Terselfdertyd het Hy in ‘n treffende simbool gewys wat Hy vir hulle siele gedoen het deur hulle van sonde te reinig. In sy tweevoudige werk van liefde het Hy, kort voordat Hy aan die kruis gesterf het, sy ganse lewenstaak as ‘n bediening vir die liggaam én siel aan hulle gedemonstreer. Toe Hy gaan sit het, het Hy gesê: “Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” Alles wat hulle in Hom gesien en van Hom ervaar het, is deur hierdie stelling hulle lewensreël gemaak.

Hierdie woorde van die geseënde Verlosser is op ons ook van toepassing. Aan elkeen wat weet dat die Here sy sondes weggewas het, beveel Hy met al die hartroerende krag van een wat gaan sterf: “Soos Ek gedoen het, so moet julle ook doen.” Jesus Christus vra elkeen van ons om in alle omstandighede op te tree soos wat Hy gedoen het. Wat Hy vir ons gedoen het, en nog steeds elke dag doen, moet ons ook aan ander doen. In sy neerbuigende, vergewende, reddende liefde is Hy ons voorbeeld.

Die gedagte kom dadelik by ons op: “Hoe selde het ek soos Christus geleef, en hoe min was ek daarvan bewus dat ek soos Hy moet leef!” Tóg is Hy my Here – Hy het my lief en Ek het Hom lief. Ek moenie eers die gedagte koester om anders te leef as wat Hy geleef het nie. Ek moet my hart vir sy Woord oopstel en my oë op sy voorbeeld gevestig hou totdat dit sy goddelike krag op my uitoefen en my laat uitroep: “Here, soos wat U gedoen het, wil ek ook doen.”

Daar is een ding wat ek nie moet vergeet nie. Dit is nie die herinnering aan wat Jesus vir my gedoen het nie, maar die lewende ervaring van wat Hy nóú vir my doen, wat aan my die krag sal verleen om soos Hy op te tree. Sy liefde moet ‘n huidige werklikheid wees, die invloei van ‘n lewe en krag wat my in staat sal stel om soos Hy lief te hê. Dit is slegs deur die Heilige Gees dat ek kan besef wat Jesus vir my doen, hoe Hy dit doen, dat dit Hy is wat dit doen, en dat dit moontlik is om aan ander te doen wat Hy vir my doen.

“Soos wat Ek aan julle gedoen het, moet julle ook doen!” Wat ‘n kosbare woord! Wat ‘n wonderlike moontlikheid! Die Here Jesus sal aan my die goddelike krag van sy liefde verleen sodat ek dit ook aan ander kan toon. Hy seën my sodat ek ander kan seën. Hy het my lief sodat ek ander kan liefhê. Hy het ‘n dienskneg vir my geword sodat ek ‘n dienskneg vir ander kan word. Hy het Homself geheel en al vir my gegee sodat ek myself geheel en al vir ander kan gee. Ek moet net aan ander doen wat Hy vir my gedoen het. Ek kán dit doen omdat Hy dit vir my doen. Wat ek doen, is niks meer as om te herhaal en uit te leef wat ek van Hom ontvang het nie (vgl. Num. 10:32).

Wonderlike genade wat ons roep om soos ons Here te wees in dit wat sy hoogste heerlikheid voorstel. Wonderlike genade wat ons vir hierdie roeping toerus deur Christus wat eers vir en in ons is wat ons vir ander moet wees. Ons hele hart sal met vreugde op sy opdrag reageer: “Ja, Here, soos wat U aan my gedoen het, sal ek ook aan ander doen.”

Gebed: “Genadige Here, wat sal ek anders doen as om u lof te besing en te bid? My hart is oorweldig deur hierdie wonderlike aanbod: U sal al u liefde en krag in my openbaar as ek myself oorgee om dit na ander toe te laat deurvloei. Hoewel met vrees en bewing, maar nogtans met diepe dankbaarheid en eerbied, asook met vreugde en vertroue, aanvaar ek die aanbod en sê: Hier is ek. Wys my hoeveel U my liefhet, en ek sal dit aan ander toon deur hulle net so lief te hê. Skenk aan my deur u Heilige Gees ‘n duidelike insig in u liefde vir my, sodat ek kan begryp hoeveel U my liefhet. Gee ook dat ek sal besef, telkens wanneer ek voel hoe min en klein my liefde is, dat dit nie met die liefde van my klein hartjie is dat ek die opdrag moet uitvoer om soos U lief te hê nie, maar met u liefde wat in my hart uitgestort is. Is ek nie u loot nie, o hemelse Wynstok? Dit is die volheid van u lewe en liefde wat deur my vloei in liefde en seëninge aan hulle rondom my. Dit is u Gees wat op dieselfde oomblik aan my openbaar wat U vir my is, en aan my die krag gee vir dit wat ek in u Naam vir ander moet wees. In hierdie geloof durf ek sê: Amen, Here, soos wat U aan my doen, sal ek ook aan ander doen. Ja, Amen.”

3. Soos Christus… soos een wat dien

“As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was” (Joh. 13:14). “Ek is onder julle soos een wat dien” (Luk. 22:27).

In die vorige hoofstuk het ons oor die Here se reg gepraat om sy verlostes te beveel en van hulle te verwag om sy voorbeeld te volg. Nou sal ons dieper ondersoek instel oor wat dit is waarin ons Hom moet navolg. “Julle is ook verplig om mekaar se voete te was,” is die opdrag wat ons ten volle moet verstaan. Die drie hoofgedagtes is:

·         die voorkoms van ‘n dienskneg waarin ons Hom sien,

·         die reiniging wat die doel van sy diens was, en

·         die liefde wat die belangrikste krag daarvan was.

Ten eerste, die voorkoms van ‘n dienskneg. Alles was gereed vir die laaste avondmaal, insluitende die water om, volgens gebruik, die gaste se voete te was. Daar was egter nie ‘n slaaf om die werk te doen nie. Elkeen het op die ander gewag: nie een van die twaalf het daaraan gedink om homself te verneder en die werk te doen nie. Aan tafel was hulle eerder begaan oor wie die grootste sou wees in die koninkryk wat hulle verwag het (Luk. 22:24-27).

Terwyl hulle nog aan tafel gesit het, het Jesus skielik opgestaan, sy boklere eenkant gesit, Homself met ‘n handdoek omgord en begin om hulle voete te was. Wat ‘n wonderbare toneel wat in verbaasdheid en eerbied deur engele aanskou is! Jesus Christus, die Skepper en Koning van die heelal, op wie se bevel legioene engele gereed is om Hom te dien, kon in liefde gesê het wie van die twaalf die werk moes doen. Hy kies egter die slaaf se plek vir Homself, neem die vuil voete in sy heilige hande en was hulle. Hy doen dit in die volle bewussyn van sy goddelike heerlikheid, want Johannes sê: “Jesus, omdat Hy wis dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God uitgegaan het en na God heengaan, het van die maaltyd opgestaan…” (Joh. 13:3-4). Vir die hande waarin God alle dinge oorgegee het, is niks té eenvoudig of té vuil nie. Die nederigheid van ‘n werk verneder nie die persoon nie; die persoon eer die werk, hef dit op en deel sy eie waardigheid selfs aan die mees minderwaardige diens mee.

In hierdie diepe vernedering, soos wat mense dit sou noem, het onse Here goddelike heerlikheid gevind en is in dié opsig die Leidsman van sy kerk op die pad na ware seën. Dit is as die Seun dat Hy die Dienskneg is. Omdat Hy die geliefde van sy Vader is, in wie se hande alle dinge oorgegee is, is dit nie vir Hom moeilik om só laag te buig nie. Deur sodoende die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem, verkondig Jesus die wet van rangorde in sy kerk. Hoe hoër iemand in genade wil staan, hoe meer moet dit sy vreugde wees om almal se dienskneg te wees. “Elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees” (Matt. 20:27). “Die grootste van julle moet jul dienaar wees” (Matt. 23:11). Hoe hoër ek in die bewussyn van Christus-gelykvormigheid uitstyg, hoe laer sal ek neerbuig om almal rondom my te dien.

‘n Dienskneg is iemand wat altyd na die werk en belange van sy meester omsien. Hy stel homself ten doel om sy meester te laat sien dat hy slegs daarna streef om dinge te doen wat hom tevrede sal stel en tot sy voordeel sal strek. Só het Jesus ook geleef: “Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” (Mark. 10:45). “Maar Ek is onder julle soos een wat dien” (Luk. 22:27).

Só moet ek ook lewe en onder God se kinders wandel soos een wat almal se dienskneg is. As ek ander wil seën moet ek ‘n nederige, liefdevolle bereidwilligheid hê om hulle te dien. Ek moenie na my eie eer en belange streef nie, maar slegs daarna om ‘n seën vir ander te wees. Ek moet Christus se voorbeeld volg om die voete van die dissipels te was. ‘n Dienskneg voel nie skaam of vernederd om as ‘n minderwaardige persoon beskou te word nie: dit is sy plek en werk om ander te dien.

Die rede waarom ons so dikwels nie ander mense seën nie, is omdat ons wil wys dat ons in genade en gawes hoër as hulle is, of ten minste hulle gelykes. As ons maar net van die Here wou leer om in die geseënde gees van ‘n dienskneg met ander te assosieer, sou ons ‘n groot seën vir die wêreld kon wees! Wanneer hierdie voorbeeld tot sy regmatige plek in die kerk van Christus herstel is, sal die krag van sy teenwoordigheid gou ervaar word.

Tweedens is daar die werk wat die dissipel in hierdie gees van nederige diensbaarheid moet vervul. Die was van die voete dui op ‘n tweeledige werk – vir die reiniging en verfrissing van die liggaam en vir die redding van die siel. Gedurende die Here Jesus se aardse bediening het dié twee dinge altyd saamgegaan: siekes is gesond gemaak en aan armes is die evangelie verkondig (Luk. 7:22). Seëninge vir die liggaam was die tipe en belofte van ‘n lewe wat aan die Heilige Gees oorgegee is.

Alhoewel die redding van die siel die eerste doelwit in die dissipel se heilige liefdesbediening is, moet hy altyd onthou dat die uiterlike en liggaamlike die poort na die innerlike en geestelike lewe is. Hy moet deur liefdesdiens in die klein en alledaagse dingetjies die weg na die harte van mense vind. Dit is nie deur teregwysing en bestraffing dat hy bewys lewer dat hy ‘n dienskneg van Christus is nie. Nee, dit is deur vriendelikheid en goedheid in daaglikse aktiwiteite waardeur hy bewys dat hy altyd kyk waar hy kan help en dien. Hierdeur word hy ‘n lewende getuie van wat dit is om ‘n volgeling van Jesus te wees.

Dit is van só ‘n persoon af dat die Woord van God, wanneer dit gespreek word, met krag kom en ook maklike ingang vind in die harte van dié wat daarna luister. Wanneer hy met die sonde, verdorwenheid en dubbelhartigheid van mense in kontak kom, sal hy nie ontmoedig word nie maar volhard, omdat hy weet hoeveel lankmoedigheid die Here Jesus met hom gehad het, en dat Hy hom nog daagliks reinig. Hy vertoon homself as een van God se diensknegte deur na die laagste dieptes af te daal om mense te red, en selfs tot by die voete van ander neer te buig as dit nodig is.

Derdens kan die gesindheid wat ‘n mens in staat sal stel om só ‘n lewe van liefdevolle diensbaarheid te lei, slegs by die Here Jesus geleer word. Johannes sê dat Jesus “sy eie mense in die wêreld liefgehad het tot die einde toe” (Joh. 13:1). Niks is té moeilik vir die liefde nie. Liefde neem nooit opoffering in ag nie. Om ‘n geliefde te kan seën en help, hoe onwaardig dié persoon ook al mag wees, sal alles opgeoffer word. Dit was liefde wat van Jesus ‘n dienskneg gemaak het. Dit is liefde alleen wat die dienskneg se plek en werk só ‘n seën vir ons sal maak dat ons ten alle koste daarmee sal voortgaan. Dit mag dalk vir ons nodig wees om, soos Jesus, die voete van een of ander Judas te was wat ons later met ondankbaarheid en verraad sal beloon. Slegs liefde, ‘n onuitblusbare, hemelse liefde, verleen die lankmoedigheid, moed en wysheid vir hierdie groot werk wat die Here deur sy voorbeeld aan ons gegee het: “So moet julle ook mekaar se voete was.”

Probeer bo alles om te verstaan dat dit slegs as ‘n kind van God is dat jy waarlik ‘n dienskneg kan wees. Dit was as die Seun dat Jesus die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het. Hierin sal jy die geheim van gewillige en blye diens vind. Wandel tussen mense as ‘n seun of dogter van die hoog verhewe God. ‘n Kind van die Here is slegs in die wêreld om sy Vader se heerlikheid te vertoon, en om te bewys hoe goddelik en geseënd dit is om onder alle omstandighede slegs te leef om maniere te vind om liefde aan die harte van verlorenes te bied.

O my siel, jou liefde kan nie hierdie hoë hoogtes bereik nie, daarom moet jy luister na Hom wat sê: “Bly in my liefde” (Joh. 15:10). Ons groot begeerte moet wees dat Hy ons sal wys hoe Hy ons liefhet, en dat Hy ons self in sy liefde sal bewaar. Leef elke dag as die geliefde van die Here, in die ondervinding dat sy liefde jou die hele dag lank was, reinig, dra en seën. Sy liefde wat in jou invloei, sal weer van jou af uitvloei en dit jou grootste vreugde maak om Christus se voorbeeld te volg om ander se voete te was.

Moenie oor die gebrek aan liefde en nederigheid in ander mense kla nie, maar bid baie dat die Here sy kinders tot hulle roeping sal opwek. Bid dat hulle in sy voetstappe sal volg, sodat die wêreld kan sien dat hulle hul voorbeeld by Hom gekry het. Indien jy dit nie so gou in ander se lewens sien as wat jy graag wil nie, laat dit jou dan tot meer gebed aanspoor. In jou lewe mag die Here dalk iemand hê wat verstaan en wys dat dit die hoogste seën en vreugde is om soos Jesus lief te hê en te dien, en ook die manier om, soos Jesus, ‘n seën en vreugde vir ander te wees.

Gebed: “My Here, ek gee myself aan U om hierdie geseënde lewe van diensbaarheid te lei. In U het ek dit gesien. Die gees van ‘n dienskneg is ‘n koninklike gees wat van die hemel af kom en weer daarheen uitreik – die Gees van God se eie Seun. U ewige liefde woon in my, daarom sal my lewe soos dié van U wees, asook die taal van my lewe aan ander: ‘Ek is onder julle soos een wat dien.’ O geseënde Seun van God, U weet hoe min van u Gees in ons woon, en hoe die lewe van ‘n dienskneg teenoor alles staan wat die wêreld as belangrik en gepas beskou. U het egter gekom om aan ons nuwe lesse te leer oor wat reg is, om aan ons te wys wat in die hemel gedink word van die heerlikheid om die minste te wees, en van die seën om te kan dien. U wat nie alleen nuwe gedagtes gee nie maar ook nuwe gevoelens in ons harte kan vestig, gee aan my ‘n hart soos dié van U, ‘n hart vol van die Heilige Gees, ‘n hart wat kan liefhê soos U. O God, u Heilige Gees woon in my. U volheid is my erfenis. In die blydskap van die Heilige Gees kan ek wees soos wat U is. Ek gee myself oor vir ‘n lewe van diensbaarheid soos dié van U. Laat dieselfde gesindheid in my wees wat ook in U was toe U Uself ontledig het deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en, in gedaante gevind as ‘n mens, Uself verneder het. Ja, Here, laat daardie selfde gesindheid ook deur u genade in my wees. As ‘n seun van God, laat my ook ‘n dienskneg van mense wees. Amen.”

4. Soos Christus… ons Hoof

“Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg… wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe” (1 Pet. 2:21, 24).

Die roeping om Christus se voorbeeld te volg en in sy voetstappe te wandel, is só hoog dat daar alle rede is om te wonder hoe daar van sondige mense verwag kan word om soos die Seun van God te wandel. Die mees algemene antwoord wat gegee word, is op menslike logika gebaseer: dit kan nie regtig van ons verwag word om só te leef nie. Hierdie opdrag stel aan ons ‘n ideaal wat baie mooi maar onbereikbaar is.

Die Bybel gee aan ons ‘n ander antwoord. Dit wys ons op die wonderlike verhouding waarin ons met die Here Jesus staan. Omdat ons eenheid met Hom ‘n hemelse lewe met al sy krag in ons vestig, kan die opdrag dat ons soos Christus moet leef, in alle erns gemaak word. Die volle besef van die verhouding tussen Christus en sy volgelinge is vir almal nodig wat ernstig is om Christus se voorbeeld na te volg.

Wat is hierdie verhouding? Dit is drievoudig. Petrus verwys in die aangehaalde gedeelte na Christus as ons Borg, ons Voorbeeld en ons Hoof.

Christus is ons Borg. “Christus het ook vir julle gely … [en] self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra.” As Borg het Christus in ons plek gely en gesterf. Hy het ons sondes gedra en terselfdertyd die vloek en krag daarvan verbreek. As Borg het Hy gedoen wat ons nie kon doen nie, en wat ons nou ook nie hoef te doen nie.

Christus is ook ons Voorbeeld. In een opsig is sy werk uniek, maar in ‘n ander opsig moet ons Hom navolg, doen soos Hy gedoen het en ook soos Hy lewe en ly. “Christus het ook vir julle gely en julle ‘n voorbeeld nagelaat, sodat julle sy voetstappe kan navolg.” Sy lyding as my Borg roep my op tot ‘n lyding soos syne as my Voorbeeld. Is dit redelik om só ‘n stelling te maak? In sy lyding as Borg het Hy die krag van die goddelike natuur gehad, en hoe kan daar van my in die swakheid van die vlees verwag word om soos Hy te ly? Is daar nie ‘n onoorkombare kloof tussen hierdie twee dinge wat Petrus so nou met mekaar in verband bring nie – die lyding as Borg en die lyding as Voorbeeld? Nee, daar is ‘n geseënde derde aspek van Christus se werk wat hierdie kloof oorspan en dit vir ons moontlik maak om te kan ly en te sterf soos Hy.

Christus is ook ons Hoof. In hierdie opsig het sy Borgskap en Voorbeeld ‘n eenheidsverband. Christus is die tweede Adam. As ‘n gelowige is ek geestelik een met Hom. In hierdie eenheid lewe Hy in my en verleen aan my die krag van sy voltooide werk, die krag van sy lyding, dood en opstanding. Dit is op hierdie grondslag dat ons in Romeine 6 en elders geleer word dat die Christen inderdaad dood vir sonde is en lewend vir God. Die lewe wat Christus leef – die lewe wat deur die dood en die krag van die dood gegaan het – werk in die gelowige. Hy is dood en het weer saam met Christus opgestaan. Dit is hierdie gedagte wat Petrus uitspreek wanneer hy sê: “…wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het,” sodat ons nie alleen deur sy dood vergifnis kan ontvang nie, maar dat “ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe.”

Soos wat ons deel in die geestelike dood van die eerste Adam het, deurdat ons in hom vir God gesterf het, so het ons ook deel in die tweede Adam, deurdat ons werklik in Hom vir die sonde gesterf het. In Hom word ons weer vir God lewend gemaak. Christus is nie net ons Borg wat vir ons geleef en gesterf het, en ons Voorbeeld wat vir ons gewys het hoe om te leef en te sterf nie, maar ook ons Hoof met wie ons een is, in wie se dood ons gesterf het, en wie se lewe ons nou leef.

Hierdie drie waarhede mag nie van mekaar geskei word nie, en tóg gebeur dit veels té veel. Daar is sommige mense wat daarna streef om Christus as Voorbeeld te volg, sonder geloof in sy versoening. Hulle probeer om in hulleself die krag te kry om soos Hy te leef. Hulle pogings is tevergeefs. Dan is daar ander wat ‘n sterk geloof in sy Borgskap het, maar nalaat om Hom as Voorbeeld te volg. Hulle glo in verlossing deur die bloed van die kruis, maar dink nie daaraan om in die voetstappe te volg van Hom wat die kruis gedra het nie. Geloof in die versoening is inderdaad die fondament van die gebou, maar dit is nie al nie. Hierdie is ook ‘n onvolkome Christenskap met geen sterk begrip van heiligmaking nie, omdat sulke mense nie kan insien hoedat die navolging van Christus se voorbeeld saam met sy versoeningswerk ‘n noodsaaklikheid is nie.

Om in die Here Jesus se voetstappe te volg, is ‘n plig. Dit is die natuurlike gevolg van die wonderlike eenheid tussen die Hoof en die lede van Christus se liggaam. Dit is slegs wanneer dit reg verstaan word, dat die geseënde waarheid van Christus se voorbeeld sy regmatige plek in ons lewe sal inneem. Daar is niks wat die krag van Christus se voorbeeld só kan verswak as die gedagte dat ons nie regtig kan wandel soos Hy nie. Moenie aan sulke gedagtes toegee nie. Die volmaakte eenheid in die hemel word reeds op die aarde begin, dit groei elke dag en sal meer sigbaar word namate ons lewe in Christus vorder.

So seker en so kragtig as die werk van Borg wat Christus, ons Hoof, eens en vir altyd voltooi het, is die vernuwing na sy eie beeld, wat Hy steeds in ons uitwerk. Mag hierdie dubbele seën die kruis vir ons dubbeld so kosbaar maak. Ons Hoof het as ons Borg gely, sodat Hy in eenheid met ons ons sondes kon dra. Ons Hoof het ook as ons Voorbeeld gely sodat Hy die weg kon aanwys waarop Hy ons, in eenheid met Homself, na oorwinning en heerlikheid kan lei. Die lydende Christus is ons Hoof, ons Borg en ons Voorbeeld.

Die groot les wat ek moet leer, is die wonderlike waarheid dat dit op die misterieuse weg van lyding is waarop Hy ons versoening en verlossing uitgewerk het, dat ons sy voetstappe moet volg. Die volle ervaring van daardie verlossing hang van ons gemeenskap met die lyding af wat daarmee in verband staan. “Christus het ook vir julle gely en julle ‘n voorbeeld nagelaat.” Mag die Heilige Gees aan ons openbaar wat dit beteken.

Gebed: “Wonderlike Verlosser, hoe kan ek U ooit genoeg bedank vir die werk wat U as my Borg gedoen het? U het in mý plek, ‘n skuldige sondaar, my sondes in u liggaam op die kruishout gedra. Die kruis was vir my bestem. U het dit geneem en soos ek geword, sodat die kruis vir my ‘n plek van seën en lewe kon word. U roep my nou na die plek van kruisiging as ‘n plek van seën en lewe. Daar kan ek soos U gemaak word, en die krag verkry om te ly en op te hou om te sondig. Kosbare Verlosser, ek bely dat ek hierdie waarheid nie ten volle verstaan het nie. U Borgskap was vir my meer as u Voorbeeld. Ek het my grootliks verbly dat U die kruis vir my gedra het, maar té min daarin dat ek, soos U en met U, ook die kruis moet dra. Die versoening van die kruis was vir my meer kosbaar as die gemeenskap met die kruis. Die hoop in u verlossing was meer kosbaar as persoonlike gemeenskap met U. Vergewe my dit, liewe Heer, en leer my om na blydskap in eenheid met U as my Hoof te soek, en nie méér in u Borgskap as in u Voorbeeld nie. Gee dat my geloof in my oordenkings oor hoe ek U moet navolg, sterker en helderder sal word: Jesus is my Voorbeeld omdat Hy my lewe is. Ek kan en moet soos Hy wees omdat ek een met Hom is. Skenk dit, geseënde Here, op grond van u groot liefde aan my. Amen.”

5. Soos Christus… om onregverdig te ly

“Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly – dit is genade by God” (1 Pet. 2:19-20).

Petrus het hierdie gewigtige woorde oor Christus as ons Borg en Voorbeeld in verband met ‘n baie algemene saak uitgespreek. Hy skryf aan diensknegte wat in daardie stadium meesal slawe was. Hy leer hulle om “aan hulle here onderdanig te wees… nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is” (1 Pet. 2:18). Hy beklemtoon die feit dat as hulle sonde doen en geslaan word, dit nie genade is om dit te verdra nie. As iemand egter goed doen en verdraagsaam daarvoor ly – dit is genade by God. Onregverdige lyding is soos dié van Christus. Toe Hy as Borg ons sondes gedra het, het Hy deur mense se toedoen onregverdig gely. As ons sy voorbeeld wil navolg, moet ons ook bereid wees om onregverdig te ly.

Daar is amper niks moeiliker om te verduur as onregverdige behandeling deur ons medemens nie. Behalwe die gevoel van pyn is daar ook die ervaring van vernedering en onreg, asook die bewussyn dat ons regte geskend word. Dit is nie altyd moontlik om in die behandeling wat ons van ander mense ontvang, die wil van God te sien wat ons wil toets om te sien of ons werklik die Here Jesus as ons Voorbeeld aanvaar het nie. Laat ons sy voorbeeld bestudeer. Ons sal van Hom leer wat dit is wat aan Hom die krag gegee het om onregverdige leed op ‘n lankmoedige wyse te verduur.

Christus het in lyding as die wil van God geglo. Hy het in die Skrifte gesien dat die dienskneg van God moet ly. Hy het Homself met hierdie gedagte vertroud gemaak sodat wanneer lyding gekom het, dit nie vir Hom ‘n verrassing was nie. Hy het dit verwag en geweet dat Hy langs hierdie weg volmaak moes word (Heb. 5:8). Sy eerste gedagte was dus nie hoe Hy van lyding verlos kon word nie, maar hoe Hy God daarin kon verheerlik. Dit het Hom in staat gestel om die grootste onreg stil te verdra, want Hy het God se hand daarin gesien.

Christen, wil jy die krag hê om kwaad te verduur in die gees waarin Christus dit gedoen het? Maak dan jouself gewoond om in alles wat gebeur, die hand en wil van God te sien. Hierdie les is belangriker as wat jy mag dink. Of daar nou ‘n groot wandaad aan jou gedoen is of ‘n klein onreg in die alledaagse lewe, moet jy nie jou eerste gedagtes op die persoon vestig wat dit aan jou gedoen het nie. Wees stil en onthou dat God toegelaat het dat jy in hierdie probleem kom, sodat Hy kan vasstel of jy Hom daarin sal verheerlik. Laat ek eers God se wil daarin vasstel en my daaraan onderwerp, dan sal ek wysheid en genade vind hoe om dit te hanteer. Met my oë van mense af weggedraai na God toe, is die verdra van kwaad nie so moeilik as wat dit lyk nie.

Christus het ook geglo dat God na sy regte en eer sou omsien. Die Here het aan elkeen van ons ‘n innerlike sin vir geregtigheid gegee. Hy wat net vir die uiterlike dinge leef, eis egter dat sy eer altyd in sy aardse lewe eerbiedig word. Hy wat vir die onsigbare dinge leef, laat die handhawing van sy regte en eer in die hande van God, want hy weet dat dit veilig in sy hande is. So was dit ook met die Here Jesus. Petrus sê: “Hy het dit oorgegee aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Pet. 2:23). Dit was ‘n uitgemaakte saak tussen die Vader en die Seun – die Seun sou nie sy eie eer nastreef nie, maar slegs die eer van die Vader soek. Die Vader sou na die Seun se eer omsien. Laat die Christen die Here Jesus se voorbeeld in hierdie opsig navolg, dan sal hy groot rus en vrede ondervind. Laat jou regte en eer in God se hande. Gaan elke oortreding wat mense teen jou begaan, tegemoet in die vaste vertroue dat God na jou sal omsien. Laat alles aan Hóm oor wat regverdig oordeel.

Verder het Christus ook in die krag van lydende liefde geglo. Ons stem almal saam dat daar geen krag soos dié van die liefde is nie. Christus het daardeur die vyandigheid van die wêreld oorwin. Enige ander oorwinning lei net tot gedwonge onderwerping. Liefde alleen lei tot ‘n ware oorwinning oor die vyand deurdat dit hom in ‘n vriend verander. Ons erken almal die waarheid van hierdie beginsel, maar skram van die toepassing daarvan weg. Die Here Jesus het geglo dat deur stilte en onderworpenheid, asook deur leed te verdra, die liefde sou oorwin.

Dit is wat Hy ook vir almal van ons begeer. In ons sondige natuur is daar meer geloof in regte en mag as in die hemelse krag van liefde. Hy wat soos Christus wil wees, moet Hom ook in hierdie opsig glo dat die kwaad deur die goeie oorwin kan word. Hoe meer iemand jou benadeel, hoe meer moet jy geroepe voel om hom lief te hê. Selfs wanneer dit nodig is om die oortreder met die wet te laat straf, moet jy seker maak dat jy geen persoonlike vendetta teen hom het nie. So ver as wat dit jou aangaan, moet jy vergewe en liefhê.

Watter groot verskil sal dit nie in die Christendom en in ons kerke maak as Christus se voorbeeld nagevolg word nie! Elkeen wat uitgeskel word, moet nie terug uitskel nie; en elkeen wat ly, nie dreig nie maar dit oorgee aan Hom wat regverdig oordeel (1 Pet. 2:23). Mede-Christene, dit is letterlik wat die Vader wil hê dat ons moet doen. Laat ons die woorde van Petrus weer en weer lees, totdat ons siele met dié gedagte vervul is: “As julle verdra wanneer julle goed doen en ly – dit is genade by God.”

In die gewone Christelike lewe waarin ons meesal probeer om ons roeping as verlostes in ons eie krag te volbring, is só ‘n gelykvormigheid aan die beeld van die Here onmoontlik. In ‘n lewe van volle oorgawe, waarin ons alles in sy hande oorgegee het met die vaste vertroue dat Hy in ons sal werk, is daar die heerlike verwagting dat die navolging van Christus wél binne ons bereik is. Sou jy nie graag soos Jesus wou wees, en in die verduring van leed optree soos wat Hy in jou plek sou gedoen het nie? Is dit nie ‘n heerlike vooruitsig om in alles, ook in hierdie opsig, aan Hom gelykvormig te word nie? Dit is bokant ons vermoëns, maar in sý krag is dit moontlik.

Gee jouself elke dag aan Hom oor om te word dit wat Hy wil hê dat jy moet wees. Glo dat Hy in die hemel leef om die lewe en krag van elkeen te wees wat daarna streef om in sy voetstappe te wandel. Gee jouself oor om een met die lydende, gekruisigde Christus te wees, sodat jy kan verstaan wat dit is om dood vir die sonde te wees en vir die geregtigheid te leef. Jy sal die vreugdevolle ervaring hê van die wonderlike krag wat daar in Jesus se dood is om nie net versoening vir sonde te doen nie, maar om die mag daarvan te breek – en ook in sy opstanding, om jou vir geregtigheid te laat leef. Dit sal vir jou nét so geseënd wees om in die voetspore van die lydende Verlosser te volg, as wat dit was om vir versoening en verlossing ten volle in sy lyding te vertrou. Christus sal as Voorbeeld nét so kosbaar vir jou wees as wat Hy as Borg vir jou is. Omdat Hy jou lyding op Homself geneem het, sal jy ook sý lyding op jouself neem. Om kwaad te verduur, sal dan ‘n heerlike deel van die gemeenskap aan sy heilige lyde wees, omdat dit die vrug van ‘n ware en lewende geloof is.

Gebed: “O Here my God, ek het u kosbare woord gehoor: As enigeen leed verduur deur onregverdig te ly, en dit verdra, is dit genade by God. Dit is ‘n offer wat aangenaam vir U is omdat dit as die vrug van u Seun se lyding net deur u genade moontlik is. Hy het aan ons die voorbeeld gestel en ook aan ons die krag gegee om dit te kan doen, omdat Hy die krag van die sonde vernietig het. O my Vader, leer my en ál u kinders om na niks minder as volkome gelykvormigheid aan u dierbare Seun in hierdie aspek van sy geseënde beeld te streef nie. Here my God, ek gee nou vir altyd die handhawing van my eer en regte in u hande oor. U sal volmaak daarna omsien. Mag my enigste besorgdheid die eer en regte van my Here wees! Ek vra U veral om my met geloof in die oorwinnende krag van u lydende liefde te vervul. Laat ek volkome verstaan hoe die lydende Lam van God ons leer dat lankmoedigheid en stille lyding meer guns by God wen, en dus ook by mense, as die gebruik van mag en regte. O my Vader, ek moet en wil in die voetspore van die Here Jesus volg. Laat u Heilige Gees en die lig van u liefde en teenwoordigheid my lei en aan my krag gee. Amen.”

6. Soos Christus… gekruisig met Hom

“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my… Wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Gal. 2:20; 6:14).

Die Here Jesus het altyd van die opneem van die kruis as die toets vir dissipelskap gepraat. By drie verskillende geleenthede vind ons die woorde: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy sy kruis opneem en My volg” (Matt. 10:38; 16:24; Luk. 14:27). Terwyl die Here nog op pad na die kruis toe was, was die uitdrukking om die kruis op te neem die mees gepaste om die gelykvormigheid aan te toon waartoe sy dissipels geroep is. Ná sy kruisiging gee die Heilige Gees egter aan ons ‘n uitdrukking waardeur ons volkome gelykvormigheid aan Christus nóg kragtiger gestel word – die gelowige dissipel is self saam met Christus gekruisig. Die gekruisigde Christus en die gekruisigde Christen behoort aan mekaar. Een van die belangrikste aspekte van gelykvormigheid aan Christus is om met Hom gekruisig te wees. Elkeen wat graag soos Hy wil wees, moet die geheim van die verborge gemeenskap met sy kruis probeer verstaan.

Aanvanklik is die Christen wat na gelykvormigheid met Jesus streef, bang vir hierdie waarheid. Hy deins terug vir die pynlike lyding en dood waaraan die gedagte van die kruis verbonde is. Wanneer sy geestelike onderskeidingsvermoë egter duideliker word, word hierdie gedagte sy hoop en vreugde. Hy roem in die kruis omdat dit hom ‘n deelgenoot aan die dood en oorwinning maak wat reeds bereik is, en waardeur die verlossing van die mag van die vlees en die wêreld vir hom verkry is. Om dit behoorlik te kan verstaan, moet ons noukeurig op die taal van die Skrif let.

Paulus sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” Deur geloof in Christus word ons deelgenote aan sy lewe. Daardie lewe is ‘n lewe wat deur die dood van die kruis gegaan het, en waarin die krag van die dood altyd werksaam is. Wanneer ek daardie lewe ontvang, ontvang ek op dieselfde oomblik die volle krag van die kruisdood wat in sy nimmereindigende energie in my werk. Die lewe wat ek nou leef, is nie my eie nie. Die lewe van die Gekruisigde Een is die lewe van die kruis. Om gekruisig te wees, is ‘n afgehandelde saak. “Ons weet dat ons oue mens saam [met Hom] gekruisig is” (Rom. 6:6). “Dié wat aan Christus behoort, het die vlees… gekruisig” (Gal. 5:24). “Ek roem in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14). Hierdie tekste verwys almal na iets wat in Christus gedoen is, en waartoe ek deur die geloof toegang verkry.

Dit is baie belangrik om hierdie waarheid te verstaan en dit duidelik te stel: ek is met Christus gekruisig; ek het die vlees gekruisig. Hierdeur leer ek hoe volledig ek in die afgehandelde werk van Christus deel. Indien ek saam met Hom gekruisig is en gesterwe het, dan is ek ook ‘n deelgenoot aan sy lewe en oorwinning. Ek leer wat my posisie moet wees om die krag van die kruis toe te laat om die oue mens en die vlees, of die liggaam van sonde, dood te maak (Rom. 6:6).

Daar is nog steeds ‘n groot verpligting wat op my rus, maar dié werk is nie om myself te kruisig nie. Volgens die Bybel is ek reeds gekruisig. Wat ek moet doen, is om die oue mens altyd as gekruisig te beskou en hom nie toe te laat om van die kruis af te kom nie. Ek moet my gekruisigde posisie handhaaf. Die vlees moet gekruisig bly. Om dit te kan doen, moet ek op ‘n belangrike onderskeid let. Ek is gekruisig en is dood – die ou Adam is gekruisig, maar hy is nog nie dood nie.

Toe ek myself met my sonde, vlees en al aan die gekruisigde Verlosser oorgegee het, het Hy my heeltemal aanvaar. Ek is met my bose natuur deur Hom in sy kruisiging opgeneem, en hier het ‘n skeiding plaasgevind. In gemeenskap met Hom is ek van die lewe van die vlees bevry. Ek het saam met Hom gesterwe. In my binneste wese het ek die nuwe lewe ontvang: Christus leef in my. Die vlees waarin ek nog steeds is, die oue mens wat saam met Christus gekruisig is, is tot ‘n vervloekte dood veroordeel, maar is nog nie dood nie. Nou is dit in gemeenskap met die Here en in sy krag my roeping om toe te sien dat die ou natuur aan die kruis vasgespyker bly totdat die tyd sal kom wanneer dit finaal vernietig is. Al sy hartstogte en begeerlikhede roep uit: “Kom af van die kruis af en red jouself én vir my.” Dit is my plig om in die kruis te roem, met my hele hart die oorheersing deur die kruis te handhaaf, om my goedkeuring op die vonnis daarvan te plaas deur elke opkoms van sonde dood te maak en as gekruisig te beskou, en nie toe te laat dat dit weer heerskappy oor my verkry nie.

Dit is wat die Bybel bedoel wanneer dit sê: “As julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Rom. 8:13). “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is” (Kol. 3:5). Ek erken dus voortdurend en vrywilliglik dat daar in my vlees niks goeds woon nie. My Here is Christus, die Gekruisigde Een. Ek is saam met Hom gekruisig en is dood in Hom. Die vlees is gekruisig, en hoewel dit nog nie dood is nie, is dit vir altyd aan die dood van die kruis oorgegee. So leef ek dan in Christus, in elke daad gekruisig met Hom.

Vir diegene wat Christus se volgelinge is, is daar twee dinge wat noodsaaklik is ten einde die betekenis en krag van gemeenskap met sy kruisiging ten volle te kan verstaan en te ervaar. Die eerste is ‘n duidelike bewussyn van gemeenskap met die Gruisigde Een deur die geloof. Alle gelowiges het by hulle bekering deelgenote hieraan geword sonder om dit ten volle te verstaan. Baie van hulle bly hulle lewe lank onkundig hieroor as gevolg van ‘n gebrek aan geestelike kennis. Broeder en suster, bid dat die Heilige Gees jou eenheid met die Gekruisigde Een aan jou sal openbaar. “Ek is met Christus gekruisig.” “Ek roem in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is.” Neem woorde soos dié uit die Bybel en maak dit in gebed en oordenking jou eie met ‘n hart wat op die Heilige Gees wag om dit lewend en werklik in jou te maak. Beskou jouself in die lig van wat jy werklik is: gekruisig met Christus.

Wanneer jy dít doen, sal jy genade vind vir die tweede ding wat jy nodig het om as ‘n gekruisigde persoon te leef, in wie Christus leef. Jy sal altyd in staat wees om die vlees en die wêreld as gekruisig te beskou en te behandel. Die ou natuur streef telkens daarna om homself weer te vestig deur jou te laat dink dat dit té veel gevra is om altyd hierdie gekruisigde lewe te lei. Die enigste veilige plek vir jou is in Christus. Paulus sê dat deur Hom en sy kruis is ek vir die wêreld gekruisig. In Hom is die kruisiging ‘n afgehandelde werklikheid. In Hom het jy gesterwe én is weer lewend gemaak: Christus leef in jou. Hoe dieper die gemeenskap aan sy kruis in jou lewe, hoe beter. Dit bring jou in dieper gemeenskap met sy lewe en liefde. Om met Christus gekruisig te wees, beteken om van die mag van sonde verlos te wees – ‘n verloste persoon, ‘n oorwinnaar. Onthou dat die Heilige Gees veral gegee is om Christus in jou te verheerlik, om alles wat daar in Hom vir jou is, aan jou te openbaar en jou eie te maak.

Moenie tevrede wees om, soos so baie ander, die kruis slegs te ken in sy krag om te versoen nie. Die roem van die kruis is, vir Jesus én vir ons ook, die pad na die lewe. Elke oomblik kan dit egter ook vir ons die krag wees wat die sonde en die dood vernietig en ons onder die mag van die ewige lewe bewaar. Geloof in die krag en oorwinning van die kruis sal daagliks die werke van die liggaam en die luste van die vlees doodmaak. Hierdie geloof sal jou leer om die kruis, met sy voortgesette doding van die self, as jou roem te beskou. Die kruis is die banier waaronder volkome oorwinning oor sonde en die wêreld behaal word.

Onthou wat die heel belangrikste saak is. Dit is Jesus, die lewende, liefdevolle Verlosser wat self vir jou in staat stel om in alle dinge soos Hy te wees. Sy soete teenwoordigheid, sy tere liefde en sy hemelse krag maak dit ‘n seën en vreugde om soos Hy te wees, die Gekruisigde Een. Dit maak van die gekruisigde lewe ‘n lewe van opstandingsvreugde en krag. In Hom is hierdie twee aspekte onafskeibaar verbonde. In Hom het jy die krag om altyd die oorwinningslied te sing: “Wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”

Gebed: “Kosbare Verlosser, ek vra U nederig om aan my die verborge heerlikheid van gemeenskap met u kruis te wys. Ek ken al lank die krag van die kruis om my van die vloek van die sonde te verlos, maar hoe lank streef ek nie al tevergeefs daarna om as ‘n verloste die krag van sonde te oorkom, en die Vader te gehoorsaam soos wat U gedoen het nie! Ek kon nie die mag van sonde breek nie, maar sien nou dat dit net gebeur wanneer u dissipel homself volkome oorgee om in gemeenskap met u kruis deur die Heilige Gees gelei te word. Daar laat U hom sien hoedat die kruis vir altyd die mag van die sonde verbreek en hom vrygemaak het. Daar skenk U, die Gekruisigde Een, aan hom u Gees van heelhartige selfverloëning deur die uitwerping en oorwinning van sonde. O my Here , help my om hierdie lewe van oorwinning in U beter te kan verstaan. In dié geloof sê ek: ‘Ek is met Christus gekruisig.’ U wat my tot die dood toe liefgehad het, dit is nie u kruis nie maar Uself, die Gekruisigde Een, vir wie ek soek en in wie ek my hoop stel. Neem my, Geklruisigde Een, hou my vas en leer my van oomblik tot oomblik om die selflewe as veroordeeld te sien en slegs werd om gekruisig te word. Leer my ook van oomblik tot oomblik dat ek in U alles vir ‘n lewe van heiligheid en seën het. Amen.”

7. Soos Christus… in sy selfopoffering

“Wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur” (Ef. 5:2). “Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê” (1 Joh. 3:16).

Die menswording van die Here Jesus was selfopoffering. Sy lewe van selfverloëning was ‘n bewys hiervan. As gevolg hiervan was Hy vir die groot daad van selfopoffering deur sy kruisdood gereed. So is dit ook met die Christen gesteld. Sy bekering is, tot ‘n sekere mate, die opoffering van die self, hoewel ‘n baie gedeeltelike een as gevolg van onkunde en swakheid. Van daardie eerste stap van oorgawe af ontstaan die verpligting tot die daaglikse beoefening van selfverloëning. Die Christen se pogings om dit te doen, toon aan hom sy swakheid en berei hom vir ‘n nuwe en meer volkome selfopoffering voor, waardeur hy krag vir voortgesette selfverloëning sal kry.

Selfopoffering is deel van die essensie van ware liefde. Die natuur en geseëndheid van liefde bestaan daarin om van die self te vergeet en die blydskap van jou geliefde te soek. Wanneer die geliefde ‘n behoefte het, word die liefde deur sy aard verplig om sy eie blydskap vir die ander een op te offer. Dit verbind homself aan die ander een en offer enigiets op om sy eie seën met hom te deel.

Wie kan sê of dit nie dalk een van die geheime is wat die ewigheid sal openbaar nie: dat sonde toegelaat is omdat God se liefde andersins nie ten volle geopenbaar sou kon word nie? Die hoogste heerlikheid van God se liefde is deur die selfopoffering van Christus tentoongestel. Dit is die hoogste heerlikheid van die Christen om in hierdie opsig soos die Here Jesus te wees. Sonder volkome selfopoffering sal die nuwe wet van die liefde nie vervul kan word nie. Sonder volkome selfopoffering kan ons nie liefhê soos wat Jesus liefgehad het nie. Ons moet navolgers van Christus wees. “Wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het.” Laat jou wandel en gesprekke in ooreenstemming met die voorbeeld van Christus in liefde wees. Dit is hierdie liefde wat sy offer aanvaarbaar vir God gemaak het en ‘n lielike geur vir Hom was. Omdat sy liefde in selfopoffering tot uiting gekom het, behoort jou liefde in daaglikse dade vir die welsyn van ander gelykvormig hieraan te wees. Dan sal dit ook vir God aanvaarbaar wees. “Ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.”

Ook in die alledaagse lewe, in die verhouding tussen man en vrou en tussen werkgewer en werknemer, moet Christus se selfopoffering ons lewensreël wees. “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het” (Ef. 5:25).

Let veral op die woorde dat Christus Homself “vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God” (Ef. 5:2). Hieruit is dit duidelik dat selfopoffering twee kante het. Christus se selfopoffering het ‘n God-waartse en ‘n mens-waartse aspek. Dit was vir ons maar ook aan God dat Hy Homself as ‘n offer oorgegee het. In al ons selfopofferings moet hierdie twee aspekte altyd in ‘n eenheid met mekaar funksioneer, hoewel die een soms meer prominent as die ander mag wees.

Dit is slegs wanneer ons onsself aan God offer dat ons die krag vir ‘n volkome selfopoffering sal hê. Die Heilige Gees wys aan die gelowige wat God se aanspraak op ons is, naamlik dat ons nie aan onsself behoort nie maar aan Hom. Die besef van hoe absoluut ons God se eiendom is, gekoop en betaal met bloed, asook God se wonderlike liefde vir ons en die seën wat daar uit ‘n volle oorgawe aan Hom voortvloei, beweeg die gelowige om homself ten volle as ‘n offer aan die Here te wy. Hy lê homself op die altaar van toewyding, en dit is sy grootste vreugde om ‘n lieflike geur vir God te wees – toegewy aan God en aanvaar deur Hom. Dit word dan sy groot begeerte om vas te stel hoe hy homself in sy daaglikse lewe aan God kan offer.

Ons word op die voorbeeld van Christus gewys. Hy was ‘n lieflike geur voor God toe Hy Homself as ‘n offer vir ons gegee het. Aan elke Christen wat homself volkome aan sy diens wy, gee God dieselfde eer as aan sy Seun – Hy gebruik hom as ‘n instrument om ander te seën. Johannes sê: “Wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? (1 Joh. 4:20). Die selfopoffering waaraan jy jouself in God se diens verbind het, verplig jou om ook jou medemens te dien. Dieselfde daad wat ons volkome God s’n maak, maak ons ook volkome hulle s’n.

Dit is hierdie oorgawe aan God wat aan ons die krag vir selfopoffering teenoor ander gee, en dit selfs ‘n vreugde maak. Wanneer geloof die belofte aangeneem het: “Sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen” (Matt. 25:40), verstaan ek die heerlike verband tussen ‘n offer aan God en ‘n offer aan mense. My gemeenskap met my medemens is dan, anders as wat baie mense kla, nie ‘n struikelblok in my gemeenskap met God nie, maar juis ‘n geleentheid om myself onafgebroke aan Hom te offer.

Wat ‘n geseënde roeping is dit om in liefde te wandel soos wat Christus ons liefgehad en Homself vir ons aan God oorgegee het as ‘n lieflike geur. Slegs só kan die kerk sy roeping vervul, aan die wêreld bewys dat dit afgesonder is om Christus se werk van ‘n selfopofferende liefde te doen en ook aan te vul aan die oorblyfsel van die verdrukkinge van Christus (Kol. 1:24).

Verwag die Here werklik van ons om onsself so volkome vir ander te verloën? Is dit nie té veel gevra nie? Kan enigeen homself só volkome offer? Christen, die Here verwag dit wél! Niks minder nie as dit is die gelykvormigheid aan die beeld van sy Seun, waartoe Hy ons duidelik roep. Dit is die pad waarlangs Jesus sy heerlikheid en seën bereik het, en op geen ander manier kan die Christen in die vreugde van die Here ingaan nie. Wandel in liefde soos wat Christus ons liefgehad het.

Dit is ‘n groot ding wanneer ‘n gelowige hierdie waarheid raaksien. Dit is een van die belangrikste redes vir die swakheid van die kerk dat God se kinders dit so min verstaan. Ons behoort die banier van Christus se voorbeeld hoog op te lig en die krag van sy opstanding in ere te herstel omdat dit ons deelgenote van die lewe en voorbeeld van Christus maak. Christene moet die Here Jesus op aarde verteenwoordig, sodat die wêreld in die lede kan sien hoe die Hoof geleef het toe Hy in die vlees was. Laat ons ernstig bid dat God se kinders oral geleer sal word om hulle heilige roeping te aanvaar.

Almal van julle wat daarna verlang, moenie vrees om julleself in ‘n Christus-gelykvormige daad van selfopoffering aan God te wy nie. Tydens julle bekering het julle julself aan God gegee. In verskeie stappe van oorgawe daarna het julle weer julleself aan Hom gegee. Ondervinding het julle egter geleer hoeveel daar nog kortkom. Miskien het julle nooit geweet hoe volkome die selfopoffering kan en behoort te wees nie. Kyk na Christus se voorbeeld en sy offer van Homself aan die kruis, om te sien wat die Vader van julle verwag. Glo in die Here Jesus, dat wat Hy as julle voorbeeld op aarde in sy lewe en deur sy dood gedoen het, Hy nou uit die hemel in julle lewens sal vervul. Offer julleself in Christus aan die Vader, met die begeerte om net so volkome as Christus ‘n offer aan God vir die redding en seën van mense te wees.

Vertrou Christus om dit in jou uit te werk en ook in stand te hou. Laat dit in jou verhouding teenoor God duidelik wees dat jy, soos Christus, ten volle aan Hom oorgegee is, dan sal jy in liefde wandel. Jou gemeenskap met die broeders en met die wêreld sal ‘n heerlike geleentheid wees om aan God te wys hoe volkome jy jouself aan Hom oorgegee het om ‘n offer vir ‘n lieflike geur te wees.

Gebed: “O my God, wie is ek dat U my gekies het om in die selfopofferende liefde van u Seun aan sy beeld gelykvormig te word? Sy goddelike volmaaktheid en heerlikheid is daarin geleë dat Hy nie sy eie lewe liefgehad het nie, maar dit vrywilliglik deur sy dood aan U geoffer het vir ons. In hierdie opsig kan ek ook soos Hy wees. In ‘n lewenswandel van liefde kan ek wys dat ek ook myself volkome aan God geoffer het. O my Vader, u doel is ook my doel. Op hierdie plegtige oomblik herbevestig ek my toewyding aan U – nie in my eie krag nie, maar in die krag van Hom wat Homself vir my gegee het. Omdat Christus wat my voorbeeld is, ook my lewe is, het ek die moed om te sê: Vader, in Christus en soos Christus gee ek myself as ‘n offer vir mense aan U. Vader, wys my hoe U my wil gebruik om u liefde aan die wêreld te openbaar. Vervul my met u liefde, en laat ek in liefde wandel soos wat Christus my ook liefgehad het. Mag ek elke dag leef soos een wat die krag van die Heilige Gees het, om elkeen te kan liefhê met wie ek in aanraking kom. Laat ek onder alle moontlike omstandighede liefhê met ‘n liefde wat nie van my is nie, maar van U af. Amen.”

8. Soos Christus… nie van die wêreld nie

“Hulle is in die wêreld… Die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie… Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Joh. 17:11, 14, 16). “Want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld” (1 Joh. 4:17).

As Jesus nie van die wêreld was nie, waarom was Hy dan in die wêreld? As daar geen wedersydse aanvaarding tussen Hom en die wêreld was nie, waarom het Hy dan in die wêreld geleef en nie liewer in die heilige en geseënde hemel gebly nie? Die antwoord is dat die Vader Hom na die wêreld toe gestuur het. In hierdie twee uitdrukkings, “in die wêreld” en “nie van die wêreld nie” vind ons die hele geheim van sy werk as Verlosser, van sy heerlikheid as die God-mens. Christus was:

·         in die wêreld, in ‘n menslike natuur, omdat God wou wys dat hierdie natuur aan Hom behoort en nie aan die god van hierdie wêreld (Satan) nie, en dat hierdie natuur volkome geskik is om die goddelike lewe te ontvang en hierin sy hoogste heerlikheid te bereik;

·         in die wêreld, in gemeenskap met mense, om in ‘n lewende verhouding teenoor hulle te staan, om deur hulle gesien en geken te word en hulle sodoende vir die Vader terug te wen;

·         in die wêreld, in die stryd teen die magte wat die wêreld regeer, om gehoorsaamheid te leer en sodoende die menslike natuur te volmaak en te heilig;

·         nie van die wêreld nie maar van die hemel, om die lewe wat daar in God is, wat deur die mens verloor is, te vertoon en naby aan ons te bring sodat mense dit kon sien en begeer;

·         nie van die wêreld nie, maar om teen sy sonde te getuig, asook sy afwyking van God af en sy onvermoë om God te ken en te behaag;

·         nie van die wêreld nie, om ‘n koninkryk te vestig wat volkome hemels in sy oorsprong is, heeltemal onafhanklik van alles wat deur die wêreld as begeerlik en nodig beskou word, en waarvan die beginsels en wette die teenoorgestelde is van dit waardeur die wêreld regeer word;

·         nie van die wêreld nie, om almal te kan verlos wat aan Hom behoort, en hulle in daardie nuwe, hemelse koninkryk wat Hy kom bekend stel het, in te bring.

Die twee uitdrukkings, “in die wêreld” en “nie van die wêreld nie” openbaar aan ons die groot misterie van die persoon en werk van die Verlosser. Hy is nie van die wêreld nie omdat Hy die wêreld in die krag van sy goddelike heiligheid oordeel en oorwin; maar Hy was in die wêreld sodat Hy deur sy menslikheid en liefde die verlorenes kon soek en red. Die mees volkome afgesonderdheid van die wêreld, en die mees intieme gemeenskap met diegene in die wêreld – hierdie twee uiterstes ontmoet mekaar in Jesus. In sy eie persoon het Hy hulle versoen. Dit is die roeping van elke Christen om in sy lewe te bewys dat hierdie twee ingesteldhede, hoe botsend hulle ook al mag voorkom, ook in sy lewe in volkome harmonie kan bestaan. In elke gelowige moet daar ‘n hemelse lewe wees wat in aardse vorme geopenbaar word.

Om een van hierdie twee waarhede te neem en dit alleen te bevorder, is nie moeilik nie. Daar is diegene wat net die stelling “nie van die wêreld nie” as hulle leuse neem. Sedert die vroegste eeue was daar mense wat gedink het dat hulle na kloosters of woestyne moes uitwyk om die Here daar te dien. In ons tyd is daar ook Christene wat meen dat die opregtheid van hulle liefde en die opregtheid van hulle geloof net gemeet kan word aan die intensiteit van hulle veroordeling van alles wat in die wêreld is. Hierdie mense skei hulleself wél van sonde af, maar aan die ander kant het hulle geen kontak met die sondaars nie. Onder sulke omstandighede ervaar die sondaars nooit dat hulle deur die atmosfeer van ‘n tere, hemelse liefde omring word nie. Só ‘n geloof is eensydig, gebrekkig en foutief.

Aan die ander kant is daar diegene wat net die beginsel van “in die wêreld” beklemtoon. Hulle dink dat deur te wys dat die Christendom ons nie onvriendelik of onbekwaam maak om alles te geniet wat daar te geniet is nie, hulle die wêreld sal oorreed om God te dien. Hulle het dikwels daarin geslaag om die wêreld baie godsdienstig te maak, maar teen ‘n té hoë prys – die Christendom het in die proses baie wêrelds geraak.

Die ware volgeling van Jesus moet albei hierdie beginsels kombineer. As hy nie duidelik wys dat hy nie van die wêreld is terwyl hy die groter seën van ‘n hemelse lewe voorstaan nie, hoe sal hy die wêreld van sonde oortuig en aan hulle bewys dat daar ‘n beter lewe is, of aan hulle leer om te begeer wat hulle nog nie het nie? Opregtheid, heiligheid en afskeiding van die gees van die wêreld moet die Christen kenmerk. Sy hemelse gees moet hom onderskei as iemand wat aan ‘n ander koninkryk as dié van die wêreld behoort.

Nogtans moet hy leef as iemand wat “in die wêreld” is. Hy is uitdruklik deur God hier geplaas tussen hulle wat in die wêreld is, om hulle harte te wen, invloed oor hulle te verkry en aan hulle die Gees te kommunikeer wat in die gelowiges is. Die Christen moet voortdurend planne maak hoe hy hierdie doel ten beste kan bereik. Hy sal nie sukses behaal deur toe te gee, kompromie te maak en sodoende die ernstige werklikhede van die Christelike geloof te versag of af te water nie. Nee, hy sal slegs sukses behaal deur in die voetspore te volg van Hom wat alleen vir ons kan leer hoe om in die wêreld te wees en nogtans nie van die wêreld nie. ‘n Christen kan slegs ‘n seën vir die wêreld wees as hy ‘n lewe van diensbaarheid en opofferende liefde lei en daardeur duidelik bely dat die eer van die Here die hoogste doel van sy bestaan is. Vervul met die Heilige Gees, moet hy mense in direkte verbinding met die warmte en liefde van ‘n hemelse lewe bring.

O, wie sal aan ons die hemelse seën leer hoe om die doelstellings van in die wêreld maar nie van die wêreld nie in ons daaglikse lewens te verenig? Hy wat gesê het: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie,” kan dit doen. Die woorde “net soos” het ‘n dieper betekenis en krag as wat ons mag dink. As ons die Heilige Gees sou toelaat om dié woorde aan ons te verklaar, sal ons weet wat dit beteken om in die wêreld te wees soos wat Christus in die wêreld was. Ons sal die goddelike geheim ontdek dat hoe meer volkome ons nie van die wêreld is nie, hoe meer geskik sal ons wees om in die wêreld te wees. Hoe vryer die kerk van die gees en beginsels van die wêreld is, hoe meer invloed sal dit daarin kan uitoefen.

Die lewe van die wêreld is selfgenieting en selfverhoging. Die lewe van die hemel is ‘n heilige, selfverloënende liefde. Die swakheid in die lewens van baie Christene wat daarna streef om hulleself van die wêreld af te sonder, is dat hulle té veel van die gees van die wêreld in hulle het. Hulle soek meer as enigiets anders na hulle eie geluk en volkomenheid. Die Here Jesus was nie van die wêreld nie en het niks van die wêreldse gees in Hom gehad nie. Dit is waarom Hy sondaars kon liefhê, en hulle ook kon wen en red.

Die gelowige is net so min van die wêreld as wat Christus was. In sy nuwe natuur is hy van bo gebore en het die lewe en liefde van die hemel in hom. Sy bonatuurlike, hemelse lewe skenk aan hom die vermoë om in die wêreld te wees sonder om van die wêreld te wees. Die dissipel wat ten volle in die Christus-gelykvormigheid van sy innerlike lewe glo, sal die waarheid hiervan ervaar. Hy bevorder en gee uitdrukking aan die versekering: Net soos Christus is ek nie van die wêreld nie, omdat ek in Christus is. Hy verstaan dat hy slegs in ‘n noue eenheid met Christus sy afsondering van die wêreld sal kan handhaaf. In sover as wat Christus in hom leef, kan hy ‘n hemelse lewe lei. Hy besef dat die enigste manier om sy roeping te volbring is om, enersyds, as gekruisig vir die wêreld te leef en homself van die mag daarvan te onttrek en, andersyds, in Christus te leef en uit te gaan om die wêreld te seën. Hy leef in die hemel en wandel op die aarde.

Christene, sien hierin die ware navolging van Jesus Christus. “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here.” Dan sal die belofte vervul word: “Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel” (2 Kor. 6:16-17). Christus stuur jou, soos die Vader Hom gestuur het, om in die wêreld te wees as ‘n plek wat deur God bepaal is om sy liefde daar bekend te maak. ‘n Ware hemelse gees wat vry van die wêreld is, openbaar homself nie soseer in die begeerte om die aarde vir hemel te verlaat nie, maar in die bereidwilligheid om die hemelse lewe hier op aarde te leef.

“Nie van die wêreld nie” is nie alleen ‘n afsondering van en getuienis teen die wêreld nie, maar die lewende manifestasie van die gees, liefde en krag van die ander wêreld – die hemel waaraan ons behoort, in die goddelike werk om hierdie wêreld ‘n deelgenoot van sy seëninge te maak.

Gebed: “O groot Hoëpriester wat in u hoëpriesterlike krag vir ons tot die Vader gebid het as hulle wat, soos U, nie aan die wêreld behoort nie, maar steeds daarin moet bly, mag u voorbidding ook nou vir ons van krag wees. Die wêreld het steeds toegang tot ons harte, en sy gees van selfsug is nog té veel in ons teenwoordig. Weens ongeloof het die nuwe natuur nie altyd sy volle krag in ons nie. Here, ons bid U, as die vrug van u kragtige voorbidding, laat hierdie woorde ten volle vir ons waar word: ‘Nie van die wêreld nie, net soos wat Ek nie van die wêreld is nie.’ Ons enigste krag teen die wêreld is ons gelykvormigheid aan U. Here, ons kan net soos U wees wanneer ons een met U is. Ons kan net wandel soos U as ons in U bly. Geseënde Here, ons gee onsself oor om net in U te bly. ‘n Lewe wat volkome aan U oorgegee is, is een waarvan U volkome besit geneem het. Mag die Heilige Gees wat in ons woon, ons só nou aan U verbind dat ons altyd sal lewe as nie van die wêreld nie. Mag die Heilige Gees u werk in die wêreld só aan ons bekend maak dat dit ons groot vreugde sal wees om in diepe nederigheid en ‘n sterk liefde aan almal te toon wat die geseënde lewe in die wêreld is van diegene wat nie van die wêreld is nie. Mag die bewys dat ons nie van die wêreld is nie, die teerheid en ywer wees waarmee ons, soos U, onsself offer vir hulle wat in die wêreld is. Amen.”

9. Soos Christus… in sy hemelse sending

“Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur” (Joh. 17:18). “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21).

Die Here Jesus het op aarde geleef onder die diepe bewussyn dat Hy ‘n opdrag van sy Vader het om te vervul. Hy het telkens die uitdrukking gebruik: “Die Vader het My gestuur.” Hy het geweet wat die opdrag was. Hy het geweet dat die Vader Hom gekies en met een doel na die aarde gestuur het, en dit is om daardie opdrag uit te voer. Hy het geweet dat die Vader aan Hom alles sou gee wat Hy vir sy taak nodig het. Geloof in die Vader wat Hom gestuur het, was die motief en krag vir alles wat Hy gedoen het.

In wêreldse sake is dit tot groot hulp as ‘n ambassadeur presies weet wat sy opdrag is. Hy het niks anders te doen as om homself vir die uitvoering daarvan te beywer en sy aandag onverdeeld aan dié een groot saak te wy nie. Vir die Christen is dit net so belangrik om te weet dat hy ‘n opdrag het, wat die aard daarvan is en hoe hy uitvoering daaraan moet gee.

Ons hemelse opdrag is een van die heerlikste aspekte van ons gelykvormigheid aan Christus. He sê dit duidelik in die mees plegtige oomblikke van sy lewe dat soos die Vader Hom gestuur het, Hy sy dissipels ook stuur. Hy sê dit aan die Vader in sy hoëpriesterlike gebed as die groot rede op grond waarvan Hy vir hulle bewaring en heiligmaking vra. Hy sê dit vir sy dissipels ná sy opstanding as die die primêre rede waarom hulle die Heilige Gees sou ontvang. Niks sal ons meer help om ons opdrag te verstaan en uit te voer as die besef van hoe volmaak dit met Christus se sendingopdrag ooreenstem nie. Die twee opdragte is identies.

Ons opdrag is in sy doelstelling ook soos syne. Waarom het die Vader sy Seun gestuur? Om sy liefde en wil vir die redding van sondaars bekend te maak. Hy moes dit nie alleen deur sy woorde en voorskrifte doen nie, maar in sy persoon, ingesteldheid en optrede moes Hy die Vader se heilige liefde vertoon. Hy moes die onsigbare Vader in die hemel só verteenwoordig dat die mense op aarde kon weet hoe Hy is.

Nadat die Here Jesus sy sending voltooi het, het Hy na die hemel opgevaar en vir die wêreld soos die Vader geword – die Onsigbare Een. Hy het sy sendingopdrag aan sy dissipels gegee nadat Hy hulle gewys het hoe om dit te vervul. Hulle moet nou vir Hom, as die Onsigbare Een, só verteenwoordig dat die mense kan weet hoe Hy is deur net na sy dissipels te kyk. Elke Christen moet deur sy optrede, sy liefde vir sondaars en sy begeerte vir hulle redding, só ‘n beelddraer van Jesus wees dat die wêreld in sy lewe kan sien hoe Christus is. O my siel, neem tyd om hierdie hemelse gedagte te bedink.

Liewe gelowige, wie jy ook al is en waar jy mag woon, die Here wat jou en jou omgewing ken, het jou nodig en het jou verkies om sy verteenwoordiger te wees in die kringe waarin jy beweeg. Stel jou hart hierop in. Hy het sy hart op jou ingestel en jou gered sodat jy die beeld van sy onsigbare heerlikheid aan die mense rondom jou kan vertoon. Dink aan die oorsprong van jou hemelse opdrag in die Here Jesus se ewigdurende liefde, net soos wat sy opdrag uit die liefde van die Vader voortgevloei het. Jou opdrag is dieselfde as syne.

Die benodighede vir ons opdrag stem ook met dié van Christus ooreen. Elke ambassadeur verwag om van alles voorsien te word wat hy vir sy ambassade nodig het. “Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie” (Joh. 8:29). Hierdie woorde vertel aan ons hoedat die Vader wat die Seun gestuur het, altyd as sy krag en vertroosting met Hom was. Dit is ook die geval met die sending van die kerk van Christus. Die opdrag: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies...” het die volgende belofte daarby: “En kyk, Ek is met julle al die dae” (Matt. 28:19-20).

Die Christen hoef nooit as gevolg van ‘n gebrek aan toerusting vir sy taak terug te hou nie. Die Here verwag nie iets van ons sonder om die krag te gee om dit te doen nie. Elke gelowige kan hierop reken. Soos wat die Vader sy Heilige Gees aan die Seun gegee het om Hom vir sy taak bekwaam te maak, het die Here Jesus ook dieselfde voorsiening gemaak om sy dissipels met die krag van die Heilige Gees toe te rus: “Julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8; kyk ook Luk. 24:49).

Ons sending is ook soos dié van Christus in die toewyding wat daarvoor nodig is. Die Here Jesus het Homself volkome en onverdeeld oorgegee om sy werk te kan doen. Hy het net daarvoor geleef: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Die Vader se opdrag was die enigste rede waarom Hy op die aarde was. Hiervoor alleen het Hy geleef – om die heerlike, geseënde God die Vader wat in die hemel is, aan die mensdom te openbaar.

Soos met Jesus, is dit ook met ons. Christus se opdrag is die enigste rede waarom ons op aarde is. As dit nie daarvoor was nie, sou Hy ons weggeneem het. Hierdie hemelse opdrag is só groot en heerlik dat ons dit nie sonder ‘n volkome toewyding sal kan uitvoer nie. Sonder dié toewyding sal die krag wat ons vir die taak moet toerus, nie van ons besit neem nie. Soos in die geval van Jesus, verg ons hemelse opdrag niks minder nie as ‘n volkome toewyding. Is ek hiervoor bereid? Dan het ek die sleutel waardeur die heilige heerlikheid van Jesus se woorde aan my geopenbaar sal word: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Gebed: “Here Jesus, U het uit die hemel na die aarde neergedaal om aan ons te wys wat die hemelse lewe is. U kon dit doen omdat U van die hemel af gekom het. U het saam met U die beeld en Gees van die hemelse lewe na die aarde toe gebring, daarom het U so duidelik gewys wat die heerlikheid van die hemel is – die wil en liefde van die onsigbare Vader. Here, U is nou die Onsigbare Een in die hemel, en stuur ons om U in u hemelse heerlikheid as Verlosser te verteenwoordig. U vra ons om mense só lief te hê dat hulle deur ons ‘n idee kan vorm hoe U hulle in die hemel liefhet. Geseënde Here, ons harte roep uit tot U: Hoe kan U ons met só ‘n groot opdrag uitstuur? Hoe kan U dit verwag van ons wat só min liefde het? Hoe kan ons wat van die wêreld is, aan ander wys wat die lewe van die hemel is? Wonderlike Verlosser, ons siele seën U dat ons weet U verwag nie meer as wat U gee nie. U wat die lewe van die hemel is, woon in u dissipels. Geseënd is u heilige Naam, want hulle het van U die Heilige Gees van die hemel as hulle lewensasem gekry. Hy is die hemelse lewe van die siel. Hy wat homself aan die leiding van die Heilige Gees onderwerp, kan sy opdrag uitvoer. In die vreugde en krag van die Heilige Gees kan ons u beelddraers wees en in ‘n sekere mate aan mense wys wat u gelykenis is. Here, leer my en al u dissipels om te verstaan dat ons nie van die wêreld is nie, net soos U ook nie van die wêreld was nie. Ons is deur U gestuur soos wat U deur die Vader gestuur is, om in ons lewe te bewys dat ons van daardie hemelse wêreld is wat, soos U, vol liefde, reinheid en seëninge is. Amen.”

10. Soos Christus… in sy liefde

“’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh. 13:34). “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het” (Joh. 15:12).

Dit is nie die gebod van ‘n wet wat ons van sonde en swakheid oortuig nie; dit is ‘n nuwe gebod onder ‘n nuwe verbond wat op beter beloftes berus. Dt is die gebod van Hom wat niks vra wat Hy nie voorsien en in ons uitwerk nie. “Soos Ek julle liefgehad het en elke oomblik my liefde deur die Heilige Gees in julle harte uitstort, moet julle ook mekaar liefhê. Die mate, krag en werk van julle liefde sal in my liefde vir julle gevind word.”

Soos Ek julle liefgehad het – hierdie woorde verduidelik die maat van die liefde waarmee ons mekaar moet liefhê. Ware liefde ken geen perke nie: dit gee homself onverdeeld en volkome. Dit is die grootste heerlikheid van die goddelike liefde wat ons het – die Vader en die Seun, twee persone wat mekaar só absoluut liefhet dat die een totaal in die ander opgaan sodat hulle een Wese is. Dit is die heerlikheid van die liefde van Jesus, wat die beeld van God is, dat Hy ons liefhet soos wat die Vader Hóm liefhet. Dit is die heerlikheid van broederliefde, dat dit geen ander wet ken as om soos God en Christus lief te hê nie.

Hy wat soos Christus wil wees, moet die verbintenis tot hierdie matelose goddelike liefde sonder huiwering as die reël van sy lewe aanvaar. Hy weet hoe moeilik en selfs onmoontlik dit soms is om die broeders só lief te hê, in wie daar dikwels baie dinge is wat onvriendelik en afstootlik is. Voordat die kind van die Here homself egter in omstandighede begewe waar sy liefde vir die broeders getoets en op die proef gestel kan word, gaan hy alleen na die Here toe. Met sy oë op sy eie sonde en onwaardigheid gevestig, vra hy homself af hoeveel hy die Here skuld. Hy kniel voor die kruis en probeer om die diepte te peil  waarmee die Here hom liefgehad het. Hy laat die onmeetlike liefde van Hom wat in die hemel is, op sy siel skyn totdat hy tot die besef kom dat goddelike liefde net een wet het: die liefde soek nie sy eie belang nie, maar gee homself ten volle.

Hy lê homself op die altaar voor sy Here: soos U my liefgehad het, sal ek ook die broeders liefhê. Op grond van my eenheid met Jesus, en in Jesus met die broeders, kan daar geen sprake van enigiets minder wees nie; ek het hulle lief soos wat Christus hulle liefhet. Mag die Christene tog hulle ore sluit vir al die nietige gedagtes van hulle eie harte, en hulle oë vestig op die wet van die liefde wat Christus deur sy eie voorbeeld uitgeleef het. Dan sal hulle besef dat daar vir hulle niks anders te doen is as om sy opdragte te aanvaar en te gehoorsaam nie.

Ons liefde mag geen ander maat as syne erken nie, omdat sy liefde die sterkte van ons liefde is. Die liefde van Christus is nie net ‘n idee of ‘n gevoel nie, dit is ‘n werklike, goddelike lewenskrag. Solank as wat die Christen dit nie verstaan nie, kan die liefde nie sy volle krag in hom verwesenlik nie. Wanneer hy egter in die geloof aanvaar dat Christus se liefde niks minder as die gee van Homself aan sy geliefdes is nie, en hy in hierdie liefde gegrond word as die bron waardeur sy lewe onderhou word, dan besef hy dat die Here slegs vir hom vra om sy goddelike liefde deur hom te laat vloei. Hy moet in ‘n Christus-gegewe krag leef. Die liefde van Christus verplig hom én stel hom in staat om soos Hy lief te hê.

Uit die liefde van Christus leer die Christen ook wat sy liefdesdiens teenoor die broeders moet wees. Ons het reeds oor verskeie openbarings van die liefde gepraat – sy liefdevolle diens, sy selfverloëning en nederigheid. Die liefde is die wortel van al hierdie dinge. Dit leer die dissipel om homself in sy eie kring te sien as geroepe om soos Jesus te wees, die Een wat slegs leef om ander lief te hê en te help. Paulus bid vir die Filippense: “dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring” (Fil. 1:9).

Die liefde besef nie onmiddellik alles wat dit kan doen nie. Die gelowige wat bid dat sy liefde meer oorvloedig mag word in kennis, en werklik Christus se voorbeeld as die reël van sy lewe aanvaar, sal geleer word watter groot en heerlike werk daar vir hom is om te doen. Die kerk van Christus, elke kind van God én die hele wêreld het ‘n onuitspreeklike behoefte aan liefde – aan die bekendmaking van Christus se liefde. Die Christen wat werklik die Here Jesus se woorde: “Julle moet mekaar liefhê net soos Ek julle liefgehad het,” ter harte neem as ‘n opdrag wat gehoorsaam moet word, het ‘n krag in hom om ander met wie hy in aanraking kom, te kan seën. Liefde is die verklaring van die wonderlike lewe van Christus, en van die wonder van sy dood. God se liefde in sy kinders kan nog steeds sy groot wondere werk om ons soos Christus te laat leef.

“Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het!…” (1 Joh. 3:1). “Kyk hoe lief Hy gehad het!” (Joh. 11:36). Hierdie woorde is die opskrif oor die liefde van die Vader en die Seun. Dit moet ook die sleutelwoorde in elke Christen se lewe word. Dit sal so wees wanneer die opdrag van Christus om lief te hê soos Hy liefgehad het, in ‘n lewende geloof en ware toewyding as die wet van die lewe aanvaar word. So duidelik as die roeping van Abraham is die beginsel dat God vir ons is wat ons vir ander moet wees, as ‘n lewende saad in die koninkryk van God geplant. “Ek sal jou seën,” en “jy sal ‘n seën wees” (Gen. 12:2). As die stelling “Ek het julle liefgehad” die hoogste uitdrukking is van wat God vir ons is, dan moet die stelling “so moet julle ook mekaar liefhê” die eerste en hoogste uitdrukking wees van wat ‘n kind van God moet wees. In die prediking sowel as in die lewe van die kerk moet dit duidelik verstaan word dat die liefde wat soos Christus liefhet, die teken van ware dissipelskap is.

Geliefde Christene, die Here verlang daarna om julle, te midde van almal rondom julle, ‘n fontein van liefde te maak. Die liefde van die hemel is tot jou beskikking om jou te vervul, sodat dit in en deur jou sy geseënde werk op aarde kan doen. Onderwerp jouself aan hierdie reël. Bied jouself volkome vir die inwoning daarvan aan. Eer dit deur die vaste vertroue dat dit jou sal leer om soos Jesus lief te hê. Aangesien gelykvormigheid aan die Here Jesus die belangrikste kenmerk van jou Christelike lewe moet wees, moet liefde die belangrikste aspek van hierdie gelykvormigheid wees.

Moenie ontmoedig wees as jy dit nie dadelik verkry nie. Verbind jouself net duidelik tot die opdrag: “Julle moet mekaar liefhê net soos Ek julle liefgehad het.” Dit neem tyd om hierin te groei en toe te neem. Bedink dit en bid daaroor sodat die begeerte hierna brandend in jou binneste sal wees. Dink aan die mense rondom jou met die oorheersende gedagte: ek moet hulle liefhê. Neem tyd om van jou eenheid met die Here bewus te word, sodat alle vrese dat jy dalk nie ten volle sal kan liefhê nie, verdryf sal word deur die opdrag: “Het Ek julle nie beveel om lief te hê soos wat Ek liefhet nie?” Christen, neem tyd vir liefdevolle gemeenskap met Jesus, jou Voorbeeld, dan sal jy vreugdevol die opdrag om soos Hy lief te hê, vervul.

Gebed: “Here Jesus, U wat my so wonderbaarlik liefgehad het en my nou gebied om soos U lief te hê, sien my aan terwyl ek voor u voete kniel. Ek aanvaar u opdragte met blydskap, en gaan nou in u krag uit om u liefde aan almal te betoon. Dit doen ek net in u krag, o my Here! Mag dit U behaag om u liefde aan my te openbaar. Stort u liefde deur die Heilige Gees in my hart uit. Laat ek elke oomblik in die bewussyn leef dat ek die geliefde van die Here is. Laat my dit verstaan dat ek kán liefhê – nie met my liefde nie, maar met u liefde. U leef in my en u Gees woon en werk in my. Van u af stroom daar liefde in my waarmee ek ander kan liefhê. U verwag net dat ek my roeping sal verstaan en aanvaar, en dat ek myself sal oorgee om soos U te leef. U wil hê dat ek my ou natuur met sy selfsugtigheid en liefdeloosheid as gekruisig sal beskou, en in die geloof bereid sal wees om u opdragte uit te voer. Here, doen dit vir my. In die krag van my Here wil ek liefhê soos wat U my liefgehad het. Amen.”

11. Soos Christus… in sy gebed

“En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en daar gebid” (Mark. 1:35). “En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na ‘n verlate plek en rus ‘n bietjie” (Mark. 6:31).

In sy lewe van eensame gebed is my Verlosser ook my voorbeeld. Hy kon nie die hemelse lewe in sy siel in stand hou sonder om Homself voortdurend van mense af te sonder en met sy Vader te kommunikeer nie. Die hemelse lewe in my het dieselfde behoefte aan volkome afskeiding van mense – nie net vir enkele oomblikke nie, maar lank genoeg vir gemeenskap met die Fontein van Lewe, die Vader in die hemel.

Hierdie gebeurtenis, wat die aandag van sy dissipels getrek het, het aan die begin van Jesus se openbare bediening plaasgevind. In die stilte van die nag het Hy na ‘n eensame plek in die woestyn gegaan. Toe sy dissipels Hom daar gekry het, was Hy nog steeds besig om te bid.

Waarom het die Verlosser hierdie ure van gebed nodig gehad? Het Hy nie die seën geken om te midde van sy besige lewe sy siel tot God op te hef nie? Het die Vader nie in Hom gewoon nie, en het Hy nie in die diepte van sy hart onafgebroke gemeenskap met Hom gehad nie? Ja, daardie verborge lewe was inderdaad sy deel. Daardie lewe, onderworpe aan die wet van ‘n menslike bestaan, het egter die behoefte aan voortdurende verkwikking en vernuwing uit die fontein gehad. Dit was ‘n lewe van afhanklikheid. Omdat hierdie lewe sterk en waar is, kan dit nie die verlies aan direkte en konstante gemeenskap met die Vader, met wie en in wie dit sy bestaan en seën te danke het, verbeur nie.

Wat ‘n les is dit nie vir elke Christen nie! Verlengde kontak met mense is uitputtend en nadelig vir ons geestelike lewe. Dit bring ons onder die invloed van die sigbare en tydelike dinge. Niks kan vir die verlies aan verborge en direkte gemeenskap met God vergoed nie. Selfs werk in die diens van God is vermoeiend. Ons kan nie aanhou om ander te seën sonder om ons toerusting met krag uit die hoogte te vernuwe nie. Ek moet elke dag in die verborgene gemeenskap met die Vader hê. Soos Christus, is my lewe verborge in die hemel, in God. Dit het daagliks tyd nodig om uit die hemel gevoed te word. Die krag om ‘n hemelse lewe op aarde te lei, kan net uit die hemel kom.

Wat kon die gebede gewees het wat die Here Jesus so lank besig gehou het? As ek Hom maar kon hoor bid, hoe sou ek nie daardeur kon leer hoe ek self moet bid nie! Tot die verheerliking van die Here is daar meer as een van sy gebede opgeteken, sodat ons daardeur kan leer om sy heilige voorbeeld te volg. In die hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 hoor ons Hom, soos in die volkome kalmte van die hemel, met sy Vader praat. In die Getsémane-gebed ‘n paar uur later, roep Hy uit die dieptes van hewige stryd en duisternis tot God uit. In hierdie twee gebede het ons ons die hoogste en diepste uiterstes wat daar in ‘n gebed tussen die Vader en Seun kan wees.

In beide die gebede sien ons hoedat Hy God aanspreek. Elke keer is dit Vader! O my Vader! In hierdie woorde lê die geheim van alle gebed. Die Here Jesus het geweet dat Hy die Seun was en dat die Vader Hom liefgehad het. Deur hierdie woorde het Hy Homself in die volle lig van die Vader se aangesig gestel. Dit was vir Hom die grootste behoefte en seën van gebed – om die volle blydskap van die Vader se liefde te ervaar. Laat dit met ons ook so wees. Mag die belangrikste deel van my gebed die heilige stilte en bewondering van die geloof wees waarin ek op God wag om Homself aan my te openbaar en aan my deur die Heilige Gees die liefdevolle versekering te gee dat Hy, as Vader, my aansien en dat my lewe Hom behaag.

Hy wat in sy gebede nie die tyd, die stille versekering en die volle bewussyn van die betekenis daarvan het om “Abba Vader” te sê nie, verbeur die beste deel van gebed. Dit is in gebed dat die getuienis van die Gees dat ons kinders van God is en dat die Vader naby aan ons sal kom omdat Hy behae in ons het, beoefen en versterk moet word. “As ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God; en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Joh. 3:21-22).

In albei hierdie gebede sien ons ook wat Christus begeer het, naamlik dat die Vader verheerlik moet word. Hy sê: “Ek het U verheerlik; verheerlik u Seun sodat u Seun ook vir U kan verheerlik.” Dit was sekerlik die gees van elke gebed – die volle oorgawe van Homself om net vir die wil en die heerlikheid van die Vader te leef. Alles wat Hy gevra het, het net een doel gehad en dit was dat God verheerlik moes word. In hierdie opsig is Hy ook my voorbeeld. Die gees van elke gebed wat ek bid, moet wees: “Vader, seën u kind en verheerlik u genade in my sodat ek U ook kan verheerlik.” Alles in die ganse skepping moet God se heerlikheid verkondig. Die Christen wat met hierdie gedagte besiel is, en homself beskikbaar stel om hiervoor te bid totdat dit ‘n allesoorheersende begeerte by hom is, sal krag in sy gebede hê. Die Here Jesus se werk in die hemel is ook op hierdie ideaal ingestel: “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word” (Joh. 14:13). O my siel, leer van jou Verlosser om, voordat jy jou begeertes in gebed uitspreek, eers jouself as ‘n offer te wy met die een doel dat God in jou verheerlik mag word.

Dan sal jy ‘n vaste grondslag vir jou gebed hê. Jy sal die sterk begeerte hê, asook die vrymoedigheid, om die Vader te vra dat in elke aspek van Christus se voorbeeld jy soos Hy gemaak sal word, sodat die Vader verheerlik mag word. Jy sal verstaan hoedat jy in voortdurend vernuwende gebed jou siel kan oorgee om te wag dat God tot sy verheerliking daarin sal werk.

Omdat Jesus Homself so volkome aan die verheerliking van sy Vader oorgegee het, was Hy waardig om ons Middelaar te wees en kon Hy in sy hoëpriesterlike gebed sulke groot seëninge vir sy volgelinge vra. Leer om, soos Jesus, net die verheerliking van God in gebed te soek, dan sal jy ‘n ware voorbidder wees wat nie net met jou eie behoeftes na die troon van genade gaan nie, maar ook vir ander mense die vurige gebed van ‘n regverdige sal bid wat groot krag het. Hy wat in elke gebed die verheerliking van die Vader sy hoofdoelwit maak sal ook, as die Here hom daartoe roep, krag hê om onder swaar beproewings die Getsémane-gebed te bid: “Laat u wil geskied.”

Elke gebed van Christus was voorbidding, omdat Hy Homself vir ons gegee het. Alles wat Hy gevra en ontvang het, was in ons belang. Elke gebed wat Hy gebid het, was in die gees van selfopoffering. Gee jouself geheel en al aan God ter wille van mense en bid selfopofferende gebede. Dan sal jy ook krag ontvang vir die daardie oomblikke van sielswroeging wanneer jy tot ‘n spesiale daad van oorgawe geroep mag word, wat dalk vir jou trane en benoudheid sal meebring. Hy wat geleer het om selfopofferende gebede te bid, sal sekerlik die krag ontvang om in moeilike omstandighede homself onvoorwaardelik vir die saak van die Here te offer.

O my broeders en susters, as ons soos Jesus wil wees, moet ons in die besonder op Jesus let wat alleen in die woestyn gebid het. Dit is die geheim van sy wonderlike lewe. Wat Hy vir mense gedoen en gesê het, het Hy eers vir die Vader gesê en ook teenoor Hom uitgeleef. In gemeenskap met Hom is die salwing deur die Heilige Gees elke dag vernuwe. Elkeen wat daarna streef om soos Jesus te wandel, moet begin deur Hom in sy eensaamheid te volg. Selfs al mag dit ‘n deel van jou nagrus kos, of van werk en saamwees met vriende, moet die tyd gevind word om alleen met die Vader te wees.

Behalwe die gewone uur van gebed, sal jy soms ‘n baie sterk begeerte hê om tot die heiligdom toe te tree en nie daar weg te gaan nie totdat dit weer eens aan jou geopenbaar is dat God jou deel is. In jou plek van afsondering met ‘n toe deur, of in die eensaamheid van die woestyn, moet jy God elke dag ontmoet en jou gemeenskap met Hom hernu. As Christus dit nodig gehad het, hoeveel te meer nie ons nie! Wat dit vir Hom beteken het, sal ook vir ons waar wees.

Wat dit vir Hom beteken het, blyk duidelik uit wat daar oor sy doop geskryf is: “En toe Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan; en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ‘n duif op Hom neergedaal; en ‘n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek ‘n welbehae” (Luk. 3:21-22). Ja, dit sal vir ons die seën van gebed wees: ‘n geopende hemel, die doop met die Heilige Gees, die Vader se stem en die geseënde versekering van sy liefde en welbehae. Soos met Jesus, so ook met ons, sal alle seëninge in antwoord op gebed van bo af kom.

Eensame gebed soos dié van Christus is die geheim van ‘n Christus-gelykvormige lewe in die openbaar (Matt. 6:6). Laat ons hierdie wonderlike voorreg aangryp – die vrymoedigheid om die Vader se teenwoordigheid te betree, en die vryheid van Jesus Christus in gebed tot God.

Gebed: “O my geseënde Here, U het my geroep en ek het U gevolg sodat ek u beeld in alle dinge kan vertoon. Ek soek daagliks na u voetstappe om deur U gelei te word waarheen ek ook al mag gaan. Vandag het ek hulle op pad na die woestyn gevind, nat met die dou van die nag. Daar het ek U gesien terwyl U ure lank voor die Vader gekniel het. Daar het ek U ook gehoor terwyl U bid. U het alles vir die Vader se heerlikheid oorgegee, en van die Vader alles gevra, verwag en ontvang. Ek vra U om hierdie wonderlike waarheid diep in my siel te bevestig: my Verlosser wat lank voor dagbreek opstaan om gemeenskap met sy Vader te soek, en in gebed alles te vra en te ontvang wat Hy vir sy lewe en werk nodig gehad het. O my Here, wie is ek dat ek só na U kan luister? Ja, wie is ek dat u my oproep om te bid soos wat U gebid het? Kosbare Verlosser, uit die diepte van my hart vra ek U om in my dieselfde sterk behoefte aan eensame gebed op te wek. Oortuig my nóg dieper dat, soos in U geval so ook met my, die goddelike lewe nie sy volle groei kan verkry sonder baie gemeenskap met my Vader in die verborgene nie, sodat my siel waarlik in die lig van sy aangesig kan verkeer. Laat hierdie oortuiging só ‘n sterk begeerte in my opwek dat ek nie sal rus totdat my siel elke dag opnuut met strome van hemelse liefde verkwik is nie. U wat my Voorbeeld en Voorbidder is, leer my om soos U te bid. Amen”

12. Soos Christus… in sy gebruik van die Skrif

“… dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word” (Luk. 24:44).

Wat die Here Jesus as mens hier op aarde bereik het, is grootliks aan sy gebruik van die Skrifte te danke. Hy het daarin die weg wat Hy moes bewandel, gevind, die geestelike voedsel en krag wat Hy vir sy werk nodig gehad het, asook die wapens waardeur Hy elke vyand kon oorwin. In sy lewe en lyding was die Skrifte inderdaad onmisbaar vir Hom: van die begin tot die einde van sy lewe was alles die vervulling van dit wat in die Boek oor Hom geskryf is.

Dit is nouliks nodig om bewyse hiervoor aan te bied. In sy versoeking in die woestyn het Hy deur sy uitspraak: “Daar is geskrywe…” vir Satan oorwin (Matt. 4:4). In sy verskille met die Fariseërs het Hy Homself telkens op die Woord beroep: “Wat sê die Skrif? … Het julle nie gelees nie? … Is dit nie geskrywe nie?” In sy gesprekke met die dissipels het Hy menige maal uit die Skrifte die sekerheid en noodsaaklikheid van sy lyding en opstanding bewys: “Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?” (Matt. 26:54). In die kommunikasie met sy Vader aan die einde van sy lyding was dit deur middel van woorde uit die Skrif dat Hy gevra het waarom Hy verlate was, en dat Hy ook sy gees aan die Vader toevertrou het. Al hierdie dinge het ‘n baie diep betekenis.

Die Here Jesus was self die lewende Woord (Joh. 1:1-4, 14). Hy het die Gees sonder mate gehad (Joh. 3:34). Indien enigeen sonder die geskrewe Woord oor die weg kon kom, dan sou dit Hy gewees het. Nogtans sien ons dat dit alles vir Hom was. Meer as enigiemand anders wys Hy vir ons dat die lewe van God in ‘n menslike liggaam en die Woord van God in menslike spraak, onafskeibaar verbonde is. Jesus sou nie kon wees wat Hy was, en ook nie al sy werke gedoen het, indien Hy Homself nie stap vir stap oorgegee het om deur die Woord van God gelei en ondersteun te word nie.

Laat ons probeer verstaan wat dit vir ons leer. Die Woord van God word meer as een keer saad genoem (Luk. 8:11-15; 1 Pet. 1:23). Dit is die saad van die goddelike lewe. Ons weet wat saad is. Dit is daardie wonderlike organisme waarin die lewe, die onsigbare essensie van ‘n plant of boom, só gekonsentreer en beliggaam is dat dit weggeneem en beskikbaar gestel kan word om die lewe van die boom op ‘n ander plek te laat uitspruit. Die gebruik van die saad kan tweevoudig wees. As vrugte eet ons dit, byvoorbeeld die koring wat aan ons brood gee. Die lewe van die plant word dan ons voedingskrag en lewe. Of, ons kan dit saai sodat die lewe van die plant homself reproduseer en vermeerder. In beide opsigte is die Woord van God soos saad.

Ware lewe word net in God gevind. Hierdie lewe kan egter nie aan ons oorgedra word tensy dit in ‘n erkenbare vorm aan ons gebied word nie. In die Woord van God neem die onsigbare, goddelike lewe gestalte aan deurdat dit kommunikeerbaar word en binne ons bereik gestel word. Die lewe, die gedagtes, die gevoelens en die krag van God is in sy woorde opgesluit. Dit is slegs deur sy Woord dat die lewe van God in ons kan inkom. Sy Woord is die saad van die hemelse lewe.

As die brood van die lewe eet ons dit en voed onsself daarmee. Deur die eet van ons daaglikse brood neem die liggaam die voedingskrag van die sigbare natuur in – die son, water en die aarde – wat vir ons in die saadkoring voorberei is. Ons neem dit in en dit word ons eie; dit is deel van onsself en ons lewe. Wanneer ons deur die Woord van God gevoed word, kom die krag van die hemelse lewe in ons; ons neem dit in en dit word deel van ons – die lewe van ons lewe.

Ons kan ook die saad gebruik om te plant. Die woorde van God word in ons harte gesaai. Hulle het ‘n goddelike krag om te reproduseer en te vermenigvuldig. Die lewe wat daarin is, die goddelike gedagte, ingesteldheid of krag wat elkeen bevat, skiet wortel in die gelowige hart en groei. Dit waarvan die woord die uitdrukking is, neem dan in ons gestalte aan. Die woorde van God is die saad van die volheid van die goddelike lewe.

Toe die Here Jesus mens geword het, was Hy volkome van die Woord van God afhanklik. Hy het Homself geheel en al daaraan onderwerp. Sy moeder het dit aan Hom geleer. Die leraars van Nasaret het Hom daarin onderrig. In oordenking en gebed, in die beoefening van gehoorsaamheid en geloof, is Hy gedurende die stil jare van sy voorbereiding gelei om dit te verstaan en vir Homself toe te eien. Die Woord van die Vader was vir die Seun die lewe van sy siel. Wat Hy in die woestyn gesê het, is uit sy diepste persoonlike ervaring gespreek: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4). Hy het gevoel dat Hy nie kon lewe as die Woord nie aan Hom die lewe van die Vader bring nie. Sy hele lewe was ‘n lewe van geloof en vertroue in die Woord van die Vader. Die Woord was nie ‘n plaasvervanger vir die Vader nie, maar ‘n middel tot gemeenskap met die lewende God. Sy gedagtes en hart is só hierdeur vervul dat die Heilige Gees enige oomblik in sy binneste die regte woorde kon vind wat Hy moes hoor.

Kind van God, wil jy ‘n man van God wees wat sterk in die geloof is, vol seëninge, ryk in vrug tot die eer van God, en vol van die Woord van God? Maak dan, soos Christus, die Woord jou lewensbrood. Laat dit ryklik in jou woon en jou hart vervul. Voed jouself daarmee, glo dit en gehoorsaam dit. Dit is slegs deur te glo en te gehoorsaam dat die Woord in jou binneste, in jou diepste wese, opgeneem kan word. Aanvaar dit dag vir dag as die Woord wat vandag nog uit God se mond uitgaan. Beskou dit as die Woord van die lewende God, wat daardeur ‘n lewende verbintenis met sy kinders handhaaf en in lewende krag tot hulle spreek. Laat God se wil, God se werke en God se doel die oorsprong van jou gedagtes wees – nie die kerk of Christene rondom jou nie, maar die Woord wat deur die Vader aan jou geleer word. Soos Christus, sal jy dan in staat wees om alles te vervul wat in die Skrifte oor God se wil vir jou lewe geskryf is.

Die mees merkwaardige saak oor Christus se gebruik van die Skrif is dat Hy Homself daarin gevind het. Hy het sy eie beeld en gelykenis daarin gesien. Hy het Homself ook oorgegee om te vervul wat daarin geskrywe staan. Dit is hierdie wete wat Hom in die bitterste lyding bemoedig en vir die moeilikste taak bekragtig het. Oral het Hy die die wegwysers gesien wat deur God se eie hand geskrywe is: deur lyding na heerlikheid. Hy het slegs een doelwit gehad: om te word wat die Vader gesê het dat Hy moet wees, om sy lewe noukeurig in ooreenstemming te bring met die beeld wat God se Woord aan Hom voorgehou het oor wat Hy moet wees.

Dissipel van Jesus, jou gelykenis kan ook in die Skrif gevind word – ‘n beeld van wat die Vader wil hê dat jy moet wees. Streef daarna om ‘n diep en duidelike indruk te verkry oor wat die Vader in sy Woord sê dat jy moet wees. Wanneer dit behoorlik begryp word, is dit ondenkbaar hoeveel moed dit jou sal gee om elke probleem te bowe te kom. Ek het gesien wat oor my in die Bybel geskryf is. Ek het die beeld gesien oor wat ek volgens God se raadsplan geroepe is om te word. Die wete dat gelykvormigheid aan Christus deur God vir my bepaal is, inspireer my siel met ‘n krag wat die wêreld oorwin.

Die Here Jesus het sy eie beeld nie alleen in die instellings nie, maar ook in die gelowiges van die Ou Testament gevind. Moses, Aäron, Josua, Dawid en die profete was tipes van Hom. Op sy beurt is Hy weer die beeld van gelowiges in die Nuwe Testament. Dit is veral in Hom en in sy voorbeeld dat ons ons eie beeld in die Skrif moet vind. Ons moet “van gedaante verander word na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Kor. 3:18). Ons moet in die spieël van die Skrif na hierdie beeld as dié van ons eie kyk. Ten einde Christus se werke in ons te volbring, leer die Gees ons om Hom as ons Voorbeeld te neem, en elkeen van sy hoedanighede as ‘n belofte te beskou van dit wat ons kan wees.

Geseënd is die Christen wat dit waarlik gedoen het – wat nie alleen vir Jesus in die Skrifte gevind het nie, maar in sy beeld die belofte en voorbeeld van wat hy self moet word. Geseënd is die Christen wat homself oorgee om deur die Heilige Gees geleer te word om nie in menslike gedagtes versonke te raak oor wat die Skrif van gelowiges sê nie, maar in eenvoud te aanvaar wat die Bybel oor God se wil vir sy kinders openbaar.

Kind van God, dit was “volgens die Skrifte” dat Jesus geleef en gesterf het. Dit was “volgens die Skrifte” dat Hy weer opgestaan het. Omdat Hy die Skrifte geken en gehoorsaam het, was Hy in staat om alles te volbring wat Hy daarvolgens moes doen of ly. Alles wat die Skrifte beloof het dat die Vader vir Hom sou doen, het Hy gedoen. Gee jouself met ‘n onverdeelde hart oor om in die Skrifte te leer wat God sê en van jou verwag. Laat die Skrifte waarin Jesus die voedsel vir sy lewe verkry het, ook jou daaglikse voedsel en oordenking wees. Gaan elke dag na God se Woord met die blye en vaste verwagting dat, deur die geseënde Gees wat in ons woon, die Woord sy goddelike doel in jou lewe sal bereik.

Elke woord van die Here is vol goddelike lewe en krag. Wees verseker dat indien jy dit jou doel maak om die Skrif te gebruik soos wat Jesus dit gebruik het, dit ook vir jou sal doen wat dit vir Hom gedoen het. God het die plan vir jou lewe in sy Woord uitgestippel. Elke dag sal jy een of ander aspek daarvan in die Woord vind. Niks maak ‘n mens sterker en moediger as die versekering dat jy volgens die wil van God leef nie. God sal self toesien dat sy Woord in jou lewe vervul word indien jy, soos sy Seun, jouself hiervoor oorgee en dit die hoogste doel van jou lewe maak.

Gebed: “O Here my God, ek dank U vir u kosbare Woord, die goddelike spieël van alle onsienlike en ewige werklikhede. Ek dank U dat ek daarin die beeld van u Seun het, wat u beeld is, en ook deur u wondergenade my eie beeld. Ek dank U dat as ek na Hom kyk, ek ook kan sien wat ek kan wees. O my Vader, leer my om reg te verstaan watter groot seën u Woord vir my kan bring. Vir u Seun, toe Hy op aarde was, was dit die uitdrukking van u wil, die kommunikering van u lewe en krag, die gemeenskap met Uself. In die aanvaarding van u Woord en sy oorgawe daaraan, was Hy in staat om u volle raad te volbring. Mag u Woord ook dit alles vir my doen. Mag dit elke dag deur die salwing van die Heilige Gees opnuut vir my die Woord wees wat uit die mond van God uitgaan, die stem van u lewende teenwoordigheid wat tot my spreek. Mag ek deur elkeen van u woorde ervaar dat dit God is wat na my toe kom om iets van sy eie lewe aan my mee te deel. Leer my om dit as goddelike saad in my hart te bêre, wat op sy eie tyd in my sal groei en die goddelike werklikheid en lewe wat daarin verborge is, te vermeerder. Leer my bo alles, my God, om dit in Hom te vind wat die middelpunt en wese daarvan is, Hy wat self die ewige Woord is. Wanneer ek Hom vind, en myself in Hom as my Hoof en Voorbeeld, sal ek leer om, soos Hy, u Woord as my voedsel en lewe te beskou. Ek vra dit, o my God, in die naam van ons geseënde Here Jesus. Amen.”

13. Soos Christus… in vergifnis

“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Kol. 3:13).

In die lewe van genade is vergifnis een van die eerste seëninge wat ons van God af ontvang. Dit is ook een van die wonderlikstes. Dit is die oorgang van die ou na die nuwe lewe – die teken en belofte van God se liefde. Saam met dit ontvang ons die reg tot al die geestelike gawes wat in Christus vir ons voorberei is. Die verloste heilige kan nooit, hier óf in die ewigheid, vergeet dat hy ‘n vergeefde sondaar is nie. Niks werk kragtiger as God se vergewensgesinde liefde wat voortdurend as ‘n lewende werklikheid deur die Heilige Gees vernuwe word om sy liefde te laat opvlam, sy vreugde op te wek of sy moed te versterk nie. Elke dag herinner elke gedagte aan God hom hieraan; hy het alles aan vergewensgesinde genade te danke.

Hierdie vergewende liefde is een van die grootste wonders van die goddelike natuur. God vind sy eer en heerlikheid daarin, en Hy wil ook hê dat sy verlostes in die groot seën van heirde wete sal deel. Hulle word geroep om die vergifnis wat hulle so ruim en menigvuldiglik ontvang, ook aan ander te skenk.

Het jy al ooit opgemerk hoe dikwels en uitdruklik die Here Jesus hiervan praat? Indien ons die Here se woorde in Mattheus 6:12, 15; 18:2-25 en Markus 11:25 aandagtig lees, sal ons verstaan hoe onafskeibaar God se vergewing van ons, en ons vergewing van ander, aan mekaar verbonde is. Nadat die Here opgevaar het om bekering en vergifnis van sondes te skenk, sê die Bybel van Hom dieselfde wat Hy ook van die Vader gesê het, naamlik dat ons moet vergewe soos Hy. “Soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.” In vergewing moet ons soos God en soos Christus wees.

Dit is nie moeilik om die rede hiervoor te vind nie. Wanneer vergewende liefde na ons toe kom, is dit nie alleen om ons van straf te verlos nie. Nee, veel meer. Dit is om ons vir hierdie liefde te wen, van ons besit te neem en in ons te woon. Wanneer dit neergedaal het om in ons te woon, verloor dit nie sy hemelse karakter en skoonheid nie. Dit is steeds ‘n vergewende liefde wat daana streef om sy werk vir ons, in ons en deur ons te doen, sodat ons daarop ingestel kan wees om ook diegene wat teenoor ons gesondig het, te vergewe. Dit is só ‘n sterk beginsel hierdie dat daar gesê word dat om nie te vergewe nie, ‘n sekere teken is dat ‘n persoon self ook nie vergewe is nie. Hy wat slegs uit selfsugtigheid vergifnis soek as ‘n vryspraak van straf, sonder om hierdie vergewende liefde as die reël van sy hart en lewe te aanvaar, bewys daardeur dat God se vergewende liefde hom nie werklik bereik het nie. Hy wat, aan die ander kant, waarlik vergifnis aanvaar het, sal in die vreugde waarmee hy ander vergewe, die voortdurende bevestiging hê dat sy geloof in God se vergewing van homself ‘n werklikheid is. Om van Christus vergifnis te ontvang, en soos Hy dit ook aan ander te verleen: hierdie twee is een.

Dit is wat die Bybel ons leer, maar watter verhaal vertel die lewens en ondervindings van Christene? Helaas, hoe baie van hulle weet nouliks dat dit in die Bybel staan, of, indien hulle dit wél weet, dink dit is meer as wat van ‘n sondige mens verwag kan word. Baie van hulle meen dat as hulle in die algemeen hiermee saamstem, hulle altyd ‘n rede sal vind waarom hulle in hul eie besondere geval nie almal hoef te vergewe nie. Daar is baie van die vooraanstaande Christene wat nie vergewe nie en ‘n aanhoudende reeks verskonings vir hulle houding aanbied. Nogtans is die opdrag baie eenvoudig en die implikasies van die verbreking daarvan baie ernstig: “Vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Ef. 4:32). “Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle ootredinge nie vergewe nie” (Mark. 11:26).

Die Woord van God word deur menslike redenasies kragteloos gemaak. Dit is slegs deur ‘n vergewende liefde dat God boosheid oorwin, daarom moet ons selfs tot sewentig maal sewe keer vergewe. Die reël vir my optrede moet nie bepaal word deur wat die oortreder aan my gedoen het nie, maar wat deur Christus gedoen is. Gelykvormigheid aan die beeld van Christus is ‘n teken dat ek waarlik vergifnis van sondes ontvang het.

Waar is daar ‘n kerk of ‘n Christelike groep waarin die wet van ‘n vergewensgesinde liefde nie betreurenswaardig oortree is nie? Hoe dikwels in ons kerklike byeenkomste, in humanitêre projekte, in die gewone sosiale omgang en selfs in die gesinslewe, is dit duidelik dat vir baie Christene die opdrag om soos Christus te vergewe, nog nooit ‘n lewensreël geword het wat hulle gedrag bepaal nie.

As gevolg van ‘n verskil in mening staan ons die korrekte benadering teë, want deur die geringskatting van mense, liefdelose woorde, asook gevoelens van teësin, veragting of vervreemding het ons nagelaat om soos Christus te vergewe en te vergeet. In hierdie opsig het die belangrikheid van die wet van meegevoel, liefde en vergewing nog nie van die harte en gedagtes van mense besit geneem nie. Hierdie wet, wat in die verhouding tussen die Hoof en die lede gegrond is, moet ook die onderlinge verhoudings tussen die lede bepaal.

Geliefde volgelinge van die Here Jesus wat geroepe is om sy beeld aan die wêreld te vertoon, leer dat aangesien die vergifnis van julle sondes een van die eerste dinge is wat Jesus vir julle gedoen het, die vergewing van ander een van die eerste dinge is wat julle vir Hom kan doen. Onthou dat vir die nuwe hart daar selfs ‘n soeter vreugde is as om vergewe te word, en dit is die vreugde om ander te vergewe. Die vreugde van vergifnis kan slegs deur ‘n sondaar op aarde ervaar word. Die vreugde van om te vergewe is Christus se eie vreugde, die vreugde van die hemel. Besef tog dat dit niks minder is nie as die werk wat Christus self doen, en die vreugde waarmee Hy self tevrede is, waarin jy geroep word om ‘n deel te hê.

Dit is op hierdie wyse dat jy die wêreld kan seën. Dit is as die Een wat Vergewe dat Jesus sy vyande oorwin en sy vriende aan Homself verbind. Dit is as die Een wat Vergewe dat Jesus sy koninkryk gevestig het en dit steeds uitbrei. Dit is deur dieselfde vergewende liefde wat nie alleen gepredik word nie maar in die lewens van sy dissipels vertoon word, dat die kerk die wêreld van die liefde van God sal oortuig. Wanneer die wêreld mense sien wat mekaar liefhet en vergewe soos wat Jesus gedoen het, sal dit verplig word om te erken dat God waarlik met hulle is.

Wanneer dit lyk of hierdie opdrag té moeilik en té hoog is, onthou dan dat dit net die geval is wanneer ons die gevoelens van die natuurlike hart in ag neem. ‘n Sondige natuur het geen waardering vir hierdie vreugde nie en kan dit nooit verkry nie. In eenheid met Christus kan ons dit egter doen. Hy wat in Hom bly, wandel ook soos Hy gewandel het. As jy jouself oorgegee het om Christus in elke opsig na te volg, dan sal Hy deur sy Heilige Gees jou in staat stel om ook so te kan vergewe. Voordat jy in versoeking kom, maak jouself daaraan gewoond om na Jesus te kyk, na die hemelse skoonheid van sy vergewende liefde as jou voorbeeld. “Terwyl ons… die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Kor. 3:18).

Elke keer wanneer jy bid en God vir vergifnis dank, maak dan die belofte dat jy tot die eer van sy Naam dieselfde vergewende liefde aan almal rondom jou sal betoon. Voordat daar ‘n vraag oor die vergewing van ander is, maak seker dat jou hart met die liefde van Christus vervul is, met liefde vir die broeders en ook liefde vir jou vyande. Vir ‘n hart vervul met liefde is dit ‘n geseënde ervaring om te vergewe. Gebruik elke omstandigheid in die daaglikse lewe wanneer die versoeking daar is om nie te vergewe nie, as ‘n vreugdevolle geleentheid om te wys hoe volkome jy in God se vergewende liefde leef. Verbly jou oor die kans wat jy het om die wonderlike lig daarvan deur jou op ander te laat skyn. Watter geseënde voorreg is dit nie om só in staat te wees om die beeld van jou geliefde Here Jesus te dra nie.

Gebed: “Om soos U te vergewe, geseënde Seun van God, neem ek as die wet van my lewe. U wat die opdrag gegee het, gee ook die krag om dit uit te voer. U wat my genoeg liefgehad het om my te vergewe, sal my ook met u liefde vervul en my leer om ander te vergewe. U wat aan my die eerste seën van sondevergifnis gegee het, sal sekerlik ook aan my die tweede seën gee, die dieper blydskap van om ander te vergewe soos wat U my vergewe het. Vervul my met geloof in die krag van u liefde in my, om my soos U te maak, om my in staat te stel om sewentig maal sewe keer te vergewe en sodoende almal rondom my lief te hê en te seën. O my Here Jesus, u voorbeeld is my wet. Ek moet soos U wees. U voorbeeld is ook my evangelie, daarom kan ek soos U wees. Wat U deur u voorbeeld van my vereis, werk U deur u lewe in my uit. Ek sal soos U vergewe. Here, lei my dieper in my afhanklikheid van U, in die algenoegsaamheid van u genade en bewaring wat van u inwoning af kom. Dan sal ek in die oorheersende krag van die liefde glo en dit in my lewenswandel bewys. Ek sal vergewe sos Christus ook vir my vergewe het. Amen.”

14. Soos Christus… in sy nederigheid

“In nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself… Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was… het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis” (Fil. 2:3-8).

In hierdie wonderlike gedeelte het ons ‘n opsomming van die mees kosbare waarhede wat rondom die persoon van die geseënde Seun van God sentreer. Eerstens is daar sy verhewe Godheid: “Hy, wat in die gestalte van God was… aan God gelyk.” Dan kom die misterie van sy menswording in daardie diep en ondeurgrondelike woorde: “Hy het Homself ontledig.” Die versoening vloei voort uit die vernedering, gehoorsaamheid, lyding en dood waaruit dit sy waarde verkry: “Hy het Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” Al hierdie dinge word deur sy heerlike verhoging gekroon: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog” (Fil. 2:9). Christus as God, Christus wat mens geword het, Christus wat as mens in sy vernedering ons verlossing uitgewerk het, en Christus in heerlikheid as die Here van almal: dit is die rykdomme van wysheid wat in hierdie gedeelte vervat is.

Baie is al oor dié woorde geskryf, en tóg word daar nie altyd voldoende aandag aan die verband gegee waarin die Heilige Gees hierdie wonderlike lering gee nie. Die primêre betekenis daarvan is nie as ‘n stelling van die waarheid, die weerlegging van ‘n dwaling of ter wille van die versterking van ons geloof nie. Daar was steeds hoogmoed en ‘n gebrek aan liefde onder die Filippense. Dit was met die uitdruklike doel om Christus se voorbeeld aan hulle voor te hou, en hulle te leer om hulleself soos Hy te verneder, dat hierdie gedeelte van die Skrif gegee is: “In nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself… Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.”

Hy wat nog nie hierdie gedeelte van God se Woord met die begeerte gelees het om so nederig soos Christus te wees nie, het dit nog nooit vir die doel gebruik waarvoor God dit gegee het nie. Christus wat van die troon van God af neerdaal en sy weg as mens daarheen terugvind deur die vernedering van die kruis, dui die enigste weg aan waardeur ons ooit daardie troon kan bereik. Die geloof wat saam met Christus se versoening ook sy voorbeeld aanvaar, is die enigste ware geloof. Elke siel wat waarlik aan Hom wil behoort, moet sy Gees hê, sy ingesteldheid en sy beeld in eenheid met Hom.

“Laat hierdie gesindheid in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was… het Homself ontledig en… as ‘n mens het Hy Homself verneder.” Ons moet in sy selfontlediging en selfvernedering soos Christus wees. Die eerste groot daad van selfverloëning, waarin Hy as God Homself van sy hemelse heerlikheid en krag ontledig en dit afgelê het, is deur sy ewe wonderbaarlike vernedering as mens gevolg – die dood van die kruis. In hierdie verbasende, tweevoudige vernedering wat die blydskap van die Vader was, sê die Bybel baie duidelik dat ons soos Christus moet word.

Verwag Paulus, die Bybel en God werklik dit van ons? Waarom nie? Of eerder, hoe kan hulle enigiets anders verwag? Hulle weet van die gevreesde mag van hoogmoed en van die ou Adam in ons natuur. Hulle weet egter ook dat Christus ons nie net van die vloek van sonde verlos het nie, maar ook van die mag daarvan, en dat Hy aan ons sy opstandingslewe en krag gee om te kan lewe soos wat Hy op aarde geleef het. Hy is nie net ons Borg nie, maar ook ons Voorbeeld. Ons leef nie alleen deur Hom nie, maar ook soos Hy. Verder is Hy ook nie net ons Voorbeeld nie, maar ook ons Hoof wat in ons leef en in ons die lewe voortsit wat hy op aarde geleef het. Met só ‘n Christus en só ‘n verlossingsplan kan dit nie anders wees nie. Die volgeling van Christus moet dieselfde gesindheid hê as wat Hy gehad het. Hy moet veral in Christus se nederigheid soos Hy wees.

Christus se voorbeeld leer ons dat dit nie sonde is wat ons nederig maak nie. Baie Christene dink dat dit die geval is. Hulle sien daaglikse sondes as noodsaaklik om ons nederig te hou. Dit is nie so nie. Daar is inderdaad ‘n nederigheid wat baie mooi en van groot waarde is as die begin van iets groters, en dit bestaan uit die erkenning van ‘n mens se oortredings en tekortkominge. Daar is egter ‘n nederigheid wat veel meer hemels is, en selfs wanneer genade ons daarvan weerhou om te sondig, lei dit tot diepe verootmoediging en verwondering oor al God se seëninge oor ons. Dit vind sy behae daarin om niks voor Hom te wees nie aan wie ons alles verskuldig is.

Dit is genade wat ons nodig het, en nie sonde nie, om ons nederig te maak en te hou. Die takke wat die meeste vrugte dra, buig altyd die laagste. Die sterkste vloei van water maak die diepste rivierbedding. Hoe nader die siel aan God kom, hoe meer is hy in die koninklike teenwoordigheid van sy eie kleinheid en nietigheid bewus. Dit is hierdie gesindheid alleen wat dit vir Christene moontlik maak om andere hoër as hulleself te ag. Jesus Christus, die Heilige van God, is ons voorbeeld van nederigheid. Dit was omdat Hy geweet het dat die Vader alles in sy hande oorgegee het, en dat Hy van God af gekom het en weer na Hom toe gaan, dat Hy sy dissipels se voete gewas het. Dit is die goddelike teenwoordigheid, die bewussyn van die goddelike lewe en liefde in ons, wat ons nederig sal maak.

Vir baie Christene klink dit onmoontlik om te sê: “Ek sal nie aan myself dink nie; ek sal ander hoër ag as myself.” Hulle vra genade om die ergste uitbarstings van hoogmoed en ydelheid te oorkom, maar ‘n totale selfverloëning soos dié van Christus is té moeilik en onbereikbaar vir hulle. As hulle maar net die diepe waarheid en seën van die volgende woorde verstaan het: “Elkeen wat homself verneder, sal verhoog word” (Luk. 14:11); en: “Elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind” (Matt. 16:25), sou hulle in hierdie opsig met niks minder as totale gelykvormigheid aan die Here tevrede gewees het nie. Hulle sal dan ook vind dat daar ‘n manier is om die self en selfverhoging te oorkom. Dit kan aan die kruis van Christus vasgespyker word en voortdurend deur die Heilige Gees daar gehou word (kyk Gal. 5:24; Rom. 8:13). Dit is alleenlik hy wat homself van harte oorgee om in die gemeenskap met Christus se dood te leef, wat in sulke nederigheid kan groei.

Om dit te kan bereik, is twee dinge nodig. Die eerste is ‘n vaste voorneme en oorgawe om niks te wees nie en niks vir jouself te soek nie, maar om slegs vir God en vir jou naaste te leef. Die tweede is geloof wat die krag van Christus se dood toeëien as ons eie dood vir sonde en ons verlossing van die mag daarvan. Die gemeenskap met Christus se dood bring ‘n einde aan ‘n lewe waarin sonde té sterk vir ons is, en die begin van ‘n lewe in ons waarin Christus té sterk vir die sonde is.

Dit is alleen onder die onderrig en kragtige werking van die Heilige Gees dat ‘n mens hierdie waarheid kan verstaan, aanvaar en vashou. Laat ons onsself ten volle aan sy leiding oorgee. Dit is sy werk om ons te lei. Hy sal Christus in ons verheerlik. Hy sal ons leer om te verstaan dat ons dood vir sonde en die ou selflewe is, en dat Christus se lewe en nederigheid ons deel is.

Só word Christus se nederigheid in die geloof toegeëien. Dit kan in ‘n oomblik geskied, maar die toeëiening as ‘n proses vind geleidelik plaas. Ons gedagtes en gevoelens, ons gewoontes en gesprekke, was só lank onder die beheer van die ou self dat dit tyd neem om dit met die hemelse lig van Christus se nederigheid te versadig en te verander. Aanvanklik is die gewete nog nie volkome verlig nie en die geestelike smaak en onderskeidingsvermoë ook nog nie geoefen nie. Met elke gelowige hertoewyding in die diepte van my siel, waarin ek myself oorgee om so nederig soos Jesus te wees, sal ek krag van Hom ontvang om só te lewe. Dit sal my hele wese vervul totdat die heiligmaking van die Gees in my handel en wandel sigbaar sal wees terwyl ek met die nederigheid van Christus beklee word.

Die seën van ‘n Christus-gelykvormige nederigheid is onuitspreeklik. Dit is van groot waarde in die oë van God: “Hy gee genade aan die nederiges” (Jak. 4:6). Dit is ‘n bron van rus en vreugde in ‘n mens se geestelike lewe. Vir die nederige is alles wat God doen, reg en goed. Nederigheid is altyd gereed om God vir die kleinste van sy gawes te prys. Nederigheid vind dit nie moeilik om te vertrou nie. Dit onderwerp homself onvoorwaardelik aan alles wat God sê. Die twee persone wat in die Bybel deur Jesus vir hulle groot geloof geprys word, is diegene wat die minste van hulleself gedink het. Die hoofman oor honderd het gesê: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie” (Matt. 8:8). Die Kananése vrou was tevrede om saam met die honde gereken te word (Matt. 15:25-28). In samesyn met mense is dit die geheim van seën en liefde. Die nederige persoon neem nie aanstoot nie en is ook versigtig om nie aanstoot te gee nie. Hy is altyd gereed om sy naaste te dien, want hy het by Jesus die goddelike skoonheid geleer van wat dit is om ‘n dienskneg te wees. Hy vind guns by God én by mense.

O, wat ‘n heerlike roeping vir die volgelinge van Christus! Hulle word in die wêreld ingestuur om te bewys dat daar niks meer goddeliks as selfvernedering is nie. Die nederige Christen verheerlik God, beïnvloed ander om Hom te verheerlik, en hy sal uiteindelik deur God verheerlik word. Wie sou nie graag nederig soos Jesus wou wees nie?

Gebed: “O Here, U het uit die hemel neergedaal en Uself tot die dood van die kruis verneder. U roep my om om u nederigheid as die wet van my lewe te aanvaar. Here, leer my om die absolute noodsaaklikheid hiervan te verstaan. Ek kan nie en mag nie ‘n hoogmoedige volgeling van die nederige Jesus wees nie. In die verborgenheid van my hart, in my binnekamer, in my huis, in die teenwoordigheid van vriende of vyande, in voorspoed of teëspoed, wil ek met u nederigheid vervul wees. O my geliefde Here, ek het behoefte aan ‘n nuwe en dieper insig in u kruisiging en in my deel daarin. Wys my hoe my ou, hoogmoedige self met U gekruisig is. Wys my in die lig van u Gees hoe ek as God se weergebore kind dood vir die sonde en sy mag is, en hoedat sonde magteloos is as ek in eenheid met U leef. Here Jesus, U wat die sonde oorwin het, versterk in my die geloof dat U my lewe is, en dat U my met u nederigheid sal vul as ek myself oorgee om met Uself en die Heilige Gees vervul te word. Here, my hoop is in U. In die geloof in U gaan ek die wêreld in om te wys dat dieselfde gesindheid wat in U was, ook in u kinders is. Dit leer ons om in nederigheid van gees ander se belange hoër as ons eie te ag. Mag God ons hiertoe help. Amen.”

15. Soos Christus… in die gelykvormigheid aan sy dood

“Christus het vir ons sondes gesterf” (1 Kor. 15:3). [“Christ died for our sins.”] “Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding… Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe…[‘Christ died to sin’]. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here” (Rom. 6: 5, 10, 11).

Ons het ons redding aan die dood van Christus te danke. Hoe beter ons die betekenis van sy dood verstaan, hoe ryker sal ons ondervinding van die krag daarvan wees. In Romeine 6 word ons geleer wat dit is om een met Christus in die gelykvormigheid aan sy dood te wees. Laat elkeen wat werklik begeer om in sy lewe soos Christus te wees, daarna streef om te weet wat die gelykvormigheid aan sy dood beteken.

Christus het ‘n dubbele werk gehad om op aarde te volbring. Die een was om ons geregtigheid uit te werk. Die ander was om vir ons lewe te verkry. Wanneer die Bybel van die eerste deel van hierdie werk praat, gebruik dit die uitdrukking: “Christus het vir ons sonde gesterf” (1 Kor. 15:3). Hy het die sonde op Homself geneem en die straf daarvoor betaal. Hierdeur het Hy versoening gedoen en vir ons ‘n geregtigheid bewerk waardeur ons voor God kan staan.

Wanneer die Bybel van die tweede deel van sy werk praat, gebruik dit die uitdrukking: “Hy het vir die sonde gesterf” (Rom. 6:10). Daar is ‘n duidelike onderskeid tussen die twee stellings. Om vir (as gevolg van) ons sonde te sterf, dui op ‘n regterlike verhouding tussen Hom en sonde. God het ons sonde op Hom gelê, en deur sy dood is versoening vir ons sonde voor God gedoen. Om vir (met betrekking tot) die sonde te sterf, verwys na ‘n persoonlike verhouding wat deur sy dood verbreek is; die verband waarin Hy teenoor sonde gestaan het, het totaal verdwyn. Gedurende sy lewe het sonde groot mag gehad om stryd en lyding vir Hom mee te bring. Sy dood het dit alles beëindig. Sonde het daarna geen mag gehad om Hom te versoek of leed aan te doen nie. Hy was buite die bereik daarvan. Sy dood het totale skeiding tussen Hom en sonde gebring. Christus het vir die sonde gesterf.

Soos Christus, het die gelowige ook vir die sonde gesterf – hy is een met Hom in die gelykvormigheid aan sy dood. Die kennis dat Christus vir ons sonde gesterf het om versoening te bewerk, is noodsaaklik vir ons regverdigmaking. So ook is die kennis dat Christus – en ons saam met Hom in die gelykvormigheid aan sy dood – vir (met betrekking tot) die sonde gesterf het, noodsaaklik vir ons heiligmaking. Laat ons probeer om dit te verstaan.

Dit was as die tweede Adam dat Christus gesterf het. Ons het met die eerste Adam saamgegroei deur die gelykvormigheid aan sy dood. Hy het geestelik gesterf, en ons saam met hom, en die krag van sy dood werk in ons. Ons het in die ware sin van die woord in hom gesterf, so seker as wat hy self gesterf het. Ons verstaan dit. Op ‘n soortgelyke wyse het ons ook met Christus saamgegroei in die gelykvormigheid aan sy dood: Hy het vir die sonde gesterf, en ons saam met Hom. Nou werk die krag van sy dood in ons. Ons is inderdaad dood vir die sonde, so seker as wat Hy self is.

Deur ons eerste geboorte het ons deelgenote aan Adam se dood geword. Deur ons tweede geboorte het ons deelgenote aan die tweede Adam se dood geword. Elke gelowige wat vir Christus aanneem, word ‘n deelgenoot in die krag van sy dood, en is dood vir sonde. ‘n Gelowige kan egter onkundig wees oor baie van wat hy verkry het. Tydens hulle bekering is baie gelowiges só bewus van Christus se dood vir hulle sonde as ‘n daad van regverdigmaking, dat hulle nalaat om die betekenis daarvan te probeer verstaan dat hulle in hom dood vir sonde is. Dit is eers wanneer hulle die behoefte aan Christus vir hulle heiligmaking ervaar, dat die begeerte opgewek word om die gelykvormigheid aan sy dood te verstaan. Hulle vind dan die geheim van heiligmaking in die feit dat hulle, soos Christus, ook vir die sonde moet sterf.

Die Christen wat dit nie verstaan nie, dink altyd dat die sonde té sterk vir hom is, dat dit steeds mag oor hom het en dat hy dit soms moet gehoorsaam. Hy dink egter net so omdat hy nie weet dat hy, soos Christus, dood vir die sonde is nie. As hy maar net geglo en verstaan het wat dit beteken, sou sy gevolgtrekking gewees het: Christus het vir die sonde gesterf. Sonde het niks meer met Hom te doen nie. Tydens sy lewe en dood het sonde wél mag oor Hom gehad. Dit was sonde wat die lyding van die kruis en die vernedering van die graf oor Hom gebring het. Hy is egter dood vir die sonde. Dit het alle aanspraak op Hom verloor, en Hy is volkome en vir ewig van die mag daarvan bevry. Dit geld ook vir my as ‘n gelowige. Die nuwe lewe wat in my is, is die lewe van Christus uit sy dood, ‘n lewe wat uit die dood voortgekom het, ‘n lewe wat geheel en al dood vir die sonde is. Die gelowige, as ‘n nuwe skepsel in Christus Jesus, kan roem en sê: “Soos Christus, is ek dood vir die sonde. Sonde het hoegenaamd geen reg of mag oor my nie. Ek is daarvan bevry, daarom hoef ek nie te sondig nie.”

Indien die gelowige nóg sondig, is dit omdat hy nie sy voorreg gebruik om te leef soos iemand wat dood vir die sonde is nie. As gevolg van onkunde, ‘n gebrek aan waaksaamheid, of ongeloof vergeet hy die betekenis en krag van sy gelykvormigheid aan Christus se dood, en sondig dan weer. Indien hy egter ‘n vaste geloof het in wat sy deelname aan Christus se dood beteken, het hy die krag om sonde te oorkom. Hy verstaan duidelik dat daar nie gesê word: “sonde is dood” nie. Nee, sonde is nie dood nie. Die sonde leef nog en werk deur die vlees; maar hy is self vir die sonde dood en lewend vir God. Sonde kan dus nie vir ‘n enkele oomblik sonder die gelowige se toestemming mag oor hom hê nie. Indien hy sondig, is dit omdat hy homself daaraan onderwerp en dit toelaat om oor hom te heers.

Geliefde Christen wat daarna streef om soos Christus te wees, neem die gelykvormigheid aan sy dood as een van die heerlikste dele van die lewe wat jy lei. Neem dit ten eerste in die geloof aan. Glo dat jy waarlik dood vir die sonde is. Laat dit ‘n afgehandelde saak wees. Die Here sê dit aan elkeen van sy kinders, selfs die swakste onder hulle. Bely dit ook voor Hom: “Soos Christus is ek dood vir die sonde.” Moenie bang wees om dit te sê nie; dit is die waarheid. Vra die Heilige Gees om jou geloof te versterk oor hierdie deel van jou eenheid met Christus, sodat dit nie alleen ‘n leerstelling sal bly nie, maar goddelike krag en waarheid wat in jou werksaam is.

Probeer om ‘n dieper begrip te verkry van wat dit beteken om te leef soos iemand wat dood vir die sonde is; as een wat, deur te sterwe, van die heerskappy daarvan bevry is en nou in die nuwe lewe deur Jesus Christus daaroor kan heers. Dan sal die gelykvormigheid aan sy dood toenemend in jou werksaam wees terwyl Christus se dood sy volle krag in jou hele lewenswandel sal openbaar (kyk Fil. 3).

Daar is twee dinge wat baie belangrik is om die volle voordeel van die gelykvormigheid aan Christus se dood te kan geniet. Die een is die verpligting waaronder dit jou plaas: “Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Rom. 6:2). Poog om die dieper waarheid van die dood van Christus waarin jy gedoop is, te begryp en te handhaaf. Beskou jouself as dood, en gevolglik bevry van die mag van sonde. “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?” (Rom. 6:3). Laat die Heilige Gees jou voortdurend dieper in sy dood doop, totdat die krag van God se Woord – dood vir sonde tot by die volle gelykvormigheid aan Christus se dood – in jou hele lewenswandel sigbaar is.

Die ander les is dit: Die gelykvormigheid aan Christus se dood is nie net ‘n plig nie, maar ‘n krag. O Christen wat begeer om soos Christus te wees, as daar een ding is wat jy bo alles nodig het, is dit om die uitnemende grootheid van die krag van God te ken wat in jou werk. Dit was in hierdie goddelike krag dat Christus in sy dood met die magte van die hel geworstel en hulle oorwin het. Jy is ‘n deelgenoot van Christus in sy dood, en deel ook die krag waardeur Hy oorwin het. Gee jouself met blydskap en geloof oor om dieper in die gelykvormigheid aan Christus se dood ingelei te word. Dan sal jy nie anders kan as om soos Hy te word nie.

Gebed: “O my Here, hoe min het ek u genade verstaan. Ek het dikwels die woorde gelees: ‘saamgegroei deur die gelykvormigheid aan sy dood,’ en gesien dat soos wat U vir die sonde gesterf het, dit van u gelowige volgelinge verwag word: ‘so moet julle ook doen.’ Maar ek het nie die krag daarvan verstaan nie. Omdat ek nie die gelykvormigheid aan u dood geken het nie, het ek nie geweet dat ek van die mag van die sonde bevry was en as ‘n oorwinnaar daaroor kon heers nie. Here, U bied ‘n wonderlike moontlikheid aan my. Die persoon wat in die geloof die gelykvormigheid aan u dood aanvaar, en homself ooreenkomstig u Woord as dood vir die sonde beskou, sal nie deur die sonde oorheers word nie. Hy het die krag om vir God te lewe. Mag die Heilige Gees hierdie waarheid meer volkome aan my openbaar. Ek wil u Woord in ‘n eenvoudige geloof aanneem, asook die posisie wat U aan my toeken as een wat in U dood vir die sonde is. Here, in U is ek dood vir die sonde. Leer my om in die geloof aan U vas te hou totdat my hele lewe ‘n bewys daarvan is. O Here, vat my en bewaar my in eenheid met Uself sodat ek, terwyl ek in U bly, die dood vir sonde en die lewe vir God in U kan vind. Amen.”

16. Soos Christus… in die gelykvormigheid aan sy opstanding

“Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding… sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel” (Rom. 6:5, 4).

Die gelykvormigheid aan sy dood word noodwendig deur die gelykvormigheid aan sy opstanding gevolg. Om alleen van die gelykvormigheid aan sy dood te praat – van kruisdra en selfverloëning – is ‘n eensydige beskouing van die Christelike lewe. Dit is slegs die krag van sy opstanding wat ons in staat stel om ten volle gelykvormig aan sy dood te word namate ons in die geloof groei. Om saam met Christus te sterf, beteken om vir die ou lewe van sonde en wêreldsgesindheid dood te wees. Om saam met Christus op te staan, verwys na die nuwe lewe waardeur die Heilige Gees die ou lewe verdryf. Vir die Christen wat ernstig begeer om soos Christus te wandel, is kennis van die gelykvormigheid aan sy opstanding noodsaaklik. Kom ons kyk of ons nie hierin die antwoord vind op die vraag oor waar ons die krag moet kry om in die wêreld soos Christus te leef nie.

Mag God deur die Heilige Gees aan ons die heerlikheid van ‘n lewe in die gelykvormigheid aan Christus se opstanding openbaar! Hierin sal ons die geheim van krag vir ‘n lewe van gelykvormigheid aan Hom ontdek. Vir die meeste Christene is dit ‘n verborgenheid, daarom is hulle lewens vol sonde, swakhede en mislukkings. Hulle glo net in Christus se opstanding as voldoende bewys vir hulle regverdigmaking. Hulle dink dat Hy uit die dood moes opstaan om sy werk as Middelaar in die hemel voort te sit. Hulle het egter geen idee dat Hy opgestaan het sodat sy heerlike opstandingslewe nou die krag van hulle daaglikse lewens kan wees nie. Dit verklaar hulle hulpeloosheid wanneer hulle hoor dat hulle Jesus ten volle moet navolg en volmaak aan sy beeld gelykvormig moet word.

Hulle kan hulleself nie eers voorstel hoe daar van ‘n sondaar verwag kan word om in alle dinge op te tree soos wat Christus sou gedoen het nie. Hulle ken Christus nie in die krag van sy opstanding, of in die groot krag waarin sy lewe werk in diegene wat bereid is om alle dinge ter wille van Christus prys te gee nie (kyk Fil. 3:8; Ef. 1:19-20). Kom, almal van julle wat moeg is vir ‘n lewe wat nie soos dié van Jesus is nie, en daarna verlang om in sy voetstappe te wandel. Julle sal in die Bybel ontdek dat daar vir julle ‘n beter lewe is as wat julle dusver geken het. Kom, laat ek vir julle die onuitspreeklike skatte wys wat julle s’n kan wees in die gelykvormigheid aan Christus se opstanding. Laat ek drie vrae vra.

Die eerste vraag is: Is jy bereid om jou lewe aan die reël van Jesus en sy opstandingslewe te onderwerp? Ek twyfel nie daaraan dat die nadenke oor Christus se voorbeeld jou in meer as een opsig van sonde oortuig het nie. In die soek van jou eie wil en eer in plaas van dié van God, in ambisie, hoogmoed, selfsugtigheid en die najaag van die eer van mense het jy gesien hoe ver jy van die gehoorsaamheid, nederigheid en liefde van Jesus af is. Die vraag is nou of jy, in die lig van al hierdie dinge wat jy as sonde erken het, gewillig is om te sê: as die Here Jesus van my lewe besit neem, dan laat vaar ek alle regte en begeertes wat in enige opsig met my eie wil in verband staan. Ek gee my lewe, en alles wat ek het en is, volkome aan Hom oor om altyd te doen wat Hy deur sy Woord en Gees aan my sê om te doen. As Hy in my sal lewe en heers, beloof ek my volkome en hartlike gehoorsaamheid aan Hom.

Geloof is vir só ‘n oorgawe nodig, daarom is die tweede vraag: Is jy bereid om te glo dat Jesus besit sal neem van ‘n lewe wat aan Hom toevertrou word, en dat Hy dit sal beheer en bewaar? Wanneer die gelowige sy geestelike én tydelike lewe geheel en al aan Christus toevertrou, dan leer hy om Paulus se woorde reg te verstaan wanneer hy sê: “Ek het gesterwe en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal. 2:20). Ek is dood saam met Christus, maar ek het weer opgestaan. Die lewende Christus het in sy opstandingslewe van my besit geneem en beheer my nuwe lewe. Hy sal self, van uur tot uur en van dag tot dag, verseker dat ek leef soos een wat saam met Hom opgestaan het. Hy doen dit deur die Heilige Gees wat die Gees van sy opstandingslewe is. Die Heilige Gees wat in ons is, sal, as ons die Here Jesus daarvoor vertrou, voortdurend die teenwoordigheid en krag van die opgestane Here in ons verseker. Ons hoef nie te vrees dat ons nooit daarin sal slaag om só ‘n heilige lewe te lei soos dit diegene betaam wat tempels van die lewende God is nie. Ons is beslis nie daartoe in staat nie. Die lewende Jesus wat die opstanding is, het egter met sy krag oor al ons vyande getriomfeer. Hy self, wat ons so liefhet, sal dit in ons uitwerk. Hy skenk aan ons die Heilige Gees as ons krag, en Hy sal sy werk in ons met goddelike getrouheid doen as ons Hom net sal vertrou. Jesus Christus self is ons lewe.

Nou kom die derde vraag: Is jy bereid om hierdie opstandingslewe te gebruik vir die doel waarvoor God dit aan Christus gegee het, en ook aan jou, as ‘n krag om die verlorenes tot seën te wees? Elke begeerte na die opstandingslewe sal misluk as ons net ons eie geluk en vervolmaking daarmee soek. God het vir Jesus opgewek en verhoog om bekering en vergifnis van sondes aan die wêreld te bied. Hy leef net om vir sondaars te bid. Gee jouself oor om sy opstandingslewe vir dieselfde doel te gebruik. Gee jouself geheel en al oor om vir die sterwendes te werk en te bid. Dan sal jy ‘n bruikbare getuie en instrument wees waarin die opstandingslewe van Christus sal woon en werk om sy wonderlike doel te bereik.

Broeders en susters, julle roeping is om soos Christus te leef! Vir hierdie doel is julle reeds een met Hom gemaak in die gelykvormigheid aan sy opstanding. Die enigste vraag is nou of julle die volle ondervinding van sy opstandingslewe verlang – of julle bereid is om julle hele lewe oor te gee sodat Hy sy opstandingskrag in elke deel daarvan ‘n werklikheid kan maak. Ek smeek jou om nie hiervoor terug te deins nie. Offer jouself met al jou swakheid en ontrouheid onvoorwaardelik aan Hom. Glo dat net soos wat sy opstanding ‘n wonderwerk was wat bo mense se gedagtes en verwagtings verhewe was, só sal die Opgestane Een ook in jou werk ver bo alles wat jy bid of dink (Ef. 3:20).

Almal van julle wat nog nie die opstandingslewe ondervind het nie en wat vermoeid en belas is omdat julle geroep is om soos Christus te wandel en dit nie kan doen nie, kom ervaar die seën van om jou hele lewe aan die Opgestane Verlosser oor te gee in die volle versekering dat Hy hierdie lewe vir jou sal leef.

Gebed: “O Here, my siel aanbid U as die Prins van lewe! Aan die kruis het u elkeen van my vyande oorwin – die duiwel, die vlees, die wêreld en sonde. As Oorwinnaar het U opgestaan om die krag van u opstandingslewe aan u volgelinge te skenk en in hulle in stand te hou. In die gelykvormigheid aan u opstanding het U hulle een met Uself gemaak. Nou sal U in hulle leef en in hulle aardse lewe die krag van u hemelse lewe openbaar. Ere aan u Naam vir hierdie wondergenade. Geseënde Here, ek kom op u uitnodiging om my lewe met alles wat dit behels, aan U te offer en oor te gee. Vir té lank het ek in my eie krag probeer om soos U te leef, en nie daarin geslaag nie. Hoe meer ek daarna gestreef het om soos U te wandel, hoe dieper was my teleurstelling. Ek het by sommige van u dissipels gehoor hoe geseënd dit is om al die bekommernis en verantwoordelikheid van hulle lewe op U te werp. Here Jesus, ek glo in U! Mag dit U behaag om Uself as my lewe aan my bekend te maak. U alleen kan dit doen en ek vertrou U daarvoor. Dan sal my opstandingslewe soos dié van U wees – ‘n voortdurende bron van lig en seën vir almal wat U nodig het. Amen”

17. Soos Christus… gelei deur die Gees

“En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei” (Luk. 4:1). “Word met die Gees vervul” (Ef. 5:18). “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Rom. 8:14).

Sedert sy hoë geboorte het die Here Jesus die Gees gehad wat in Hom gewoon het, maar daar was tye toe Hy deur die Gees spesiale kommunikasie met die Vader nodig gehad het. Dit was die geval tydens sy doop. Die neerdaal van die Heilige Gees op Hom – die doop met die Gees wat gegee is tydens die waterdoop – was ‘n werklike gebeurtenis: Hy is met die Gees vervul. Hy het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekeer, en daarna nog duideliker as ooit tevore die leiding deur die Heilige Gees ervaar. In die woestyn het Hy geworstel en oorwin, nie in sy eie goddelike krag nie, maar as ‘n man wat deur die Heilige Gees versterk en gelei is. Ook in hierdie verband het “Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk geword” (Heb. 2:17).

Die teendeel van hierdie stelling is ook waar: die broeders word in alle opsigte aan Hóm gelyk gemaak. Hulle word geroep om soos Hy te lewe. Dit word nie van hulle vereis sonder om dieselfde krag tot hulle beskikking te stel nie. Hierdie krag is die Heilige Gees wat in ons woon, wat ons van God ontvang het. Soos wat Jesus deur die Gees gevul is en daarna deur die Gees gelei is, so moet ons ook deur die Gees vervul en gelei word.

Meer as een keer in ons oordenking van die verskillende aspekte van Christus se karakter, het dit amper onmoontlik gelyk om soos Hy te wees. Ons het onsself so min hiervoor beywer en voel so min in staat om dit te kan doen. Laat ons moed skep met die gedagte dat Jesus ook net deur die Heilige Gees só kon leef. Dit was nadat Hy deur die Gees vervul is, dat die Gees hom na ‘n plek van stryd en oorwinning gelei het. Hierdie seën kan ons s’n wees so seker as wat dit syne was. Ons kan deur die Gees vervul word en ons kan ook deur die Gees gelei word. Jesus wat self deur die Gees gedoop is om aan ons ‘n voorbeeld te stel van hoe ons moet leef, het na die hemel opgevaar om ons in sy gelykvormigheid te doop. Hy wat soos Jesus wil leef, moet hier begin: hy moet deur die Gees gedoop word. Wat die Here van sy kinders vra, gee Hy eers aan hulle. Hy vra van ons volkome gelykvormigheid met Christus omdat Hy aan ons, soos aan Jesus, die volheid van die Heilige Gees gee. Ons moet met die Gees vervul word.

Hier het ons die rede waarom die leer oor die navolging van en eenheid met Christus so min prominensie in die kerk geniet. Mense soek in hulle eie krag daarna, met slegs die hulp van sekere werkinge van die Heilige Gees. Hulle verstaan nie dat niks minder as die vervulling met die Heilige Gees nodig is nie. Geen wonder dat hulle dink dat gelykvormigheid aan Christus nie van ons verwag kan word nie, omdat hulle verkeerde sienings oor die vervulling met die Heilige Gees het. Hulle dink dat dit net die voorreg van ‘n paar is, en nie die roeping en plig van elke kind van God nie. Dit word nie genoegsaam besef nie dat die opdrag: “word met die Gees vervul” vir elke Christen bedoel is. Jesus as Verlosser doop elkeen wat glo en Hom daarvoor vertrou, met die Heilige Gees. Slegs wanneer die kerk eers die doop met die Heilige Gees verkondig, sal die gelykvormigheid aan Christus gesoek en verkry word. Mense sal dan verstaan en erken dat om soos Christus te wees, ons deur dieselfde Gees gelei moet word, en, om soos Hy deur die Gees gelei te word, moet ons met die Gees vervul word. Niks minder nie as die volheid van die Gees is nodig om soos Christus te leef.

Die manier om hierdie doel te bereik, is eenvoudig. Dit is Jesus wat met die Gees doop. Hy wat na Hom toe kom en hiervoor bid, sal dit verkry. Al wat Hy van ons verwag is ‘n oorgawe om in die geloof te ontvang wat Hy aan ons wil gee.

Die oorgawe van geloof moet heelhartig wees. Wat Hy vir ons vra, is of ons werklik ernstig is om in sy voetstappe te volg en vir hierdie doel met die Gees gedoop te word. Moenie toelaat dat daar enige huiwering in jou antwoord is nie. Neem eers al die wonderlike beloftes oor sy liefde en sy Gees in ag, waarin hierdie geseënde voorreg aangebied word. Onthou dat dit oor hierdie gelykvormigheid aan Homself in alles is, dat Hy vir die Vader gesê het: “Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het” (Joh. 17:22). Dink na hoedat die liefde van Christus en die ware begeerte om Hom te behaag, asook die eer van God en die behoeftes van die wêreld, by ons pleit om nie deur nalatigheid ons hemelse geboortereg om Christus-gelykvormig te leef, te verag nie. Erken die heilige eienaarskap van Christus oor jou as een van sy bloedgekoopte dissipels. Laat niks jou daarvan weerhou nie om te antwoord: “Ja, liewe Here, so ver as wat dit vir ‘n nietige mens vergun is, wil ek soos U wees. Ek behoort geheel en al aan U. Ek moet en wil in alle dinge u beeld dra. Dit is hiervoor dat ek vra om met die Heilige Gees vervul te word.”

Die oorgawe van geloof, slegs dit en niks minder as dit nie, vereis die Here van ons. Laat ons doen wat Hy vra. As ons onsself oorgee om in alle dinge soos Hy te wees, laat dit in die stille vertroue wees dat Hy ons oorgawe aanvaar en in die verborgene met kragtige werkinge van sy Gees in ons sal werk. Laat ons dit glo, al ervaar ons dit nie dadelik nie. Om met die Heilige Gees vervul te word, moet ons in die geloof op die Here wag. Ons kan daarop reken dat sy liefde ons meer wil gee as wat ons ooit sal besef. Laat ons oorgawe in hierdie vaste vertroue gemaak word.

Die oorgawe van geloof moet volkome wees. Die basiese wet om Christus te kan volg, is: “Hy wat sy lewe verloor, sal dit vind.” Die Heilige Gees kom om die ou lewe weg te neem en in die plek daarvan die lewe van Christus aan jou te gee. Lê die ou lewe van selfgerigtheid en selfwerksaamheid af en glo dat die Heilige Gees jou hele lewe sal vernuwe. In die werk van die Heilige Gees in jou is daar geen onderbrekings nie. Dit is jou lewensasem waardeur jy van oomblik tot oomblik vernuwe word. Deur die Gees werk God in jou om te wil sowel as om te werk volgens sy welbehae.

O Christen, jy moet ‘n diepe eerbied hê vir die werk van die Gees wat in jou woon. Glo in God se krag wat deur sy Gees in jou werk om jou voortdurend aan die lewe en beeld van Christus gelykvormig te maak. Wees by die Here Jesus en sy lewe betrokke, in die volle versekering dat die Heilige Gees weet hoe om Jesus aan jou te kommunikeer. Daardie lewe is tegelykertyd jou voorbeeld en jou krag. Onthou dat in Jesus die volheid van die Heilige Gees aan jou behoort. Dit is ‘n geskenk wat jy in die geloof aanneem, selfs wanneer jy nie sy teenwoordigheid aanvoel nie, en op wie jy vertrou om volgens elke behoefte in jou te werk. Jou gevoel mag dié van swakheid, vrees en bewing wees, en tóg sal jou woorde, werk en lewe in die betoning van Gees en krag wees (vgl. 1 Kor. 2:3-4).

Leef in die geloof dat die volheid van die Gees jou deel is, en dat jy nie teleurgesteld sal wees as jy na die Here Jesus opsien en jou elke dag verbly in die geseënde vertroue dat die sorg vir jou geestelike lewe in die hande van die Heilige Gees, die Trooster, is nie. Met die liefdevolle teenwoordigheid van die Here Jesus in jou sal die lewende gelykvormigheid aan Hom in jou gesien word. Met die Gees van die lewe in Christus wat in jou woon, sal die gelykvormigheid aan die lewe van Christus uit jou skyn.

Indien dit voorkom of jou begeertes ten spyte van jou geloof en gehoorsaamheid nie vervul word nie, moet jy onthou dat dit in gemeenskap met ander lede van Christus se liggaam is, asook in ‘n oorgawe tot Christus se diens in die wêreld, dat die volle krag van die Heilige Gees geopenbaar word. Dit was toe Jesus Homself gegee het om in volle gemeenskap met die mense rondom Hom te gaan, en soos hulle ook in water gedoop te word, dat Hy met die Heilige Gees gedoop is. Dit was toe Hy Homself in sy tweede doop in lyding as ‘n offer vir ons oorgegee het, dat Hy die Heilige Gees ontvang het om aan ons te gee.

Soek die gemeenskap van die kinders van God op, wat saam met jou sal bid en glo dat jy die doop met die Heilige Gees sal verkry. Die dissipels het die Heilige Gees nie individueel ontvang nie, maar toe hulle eendragtig in een plek saam was. Verbind jouself aan ander kinders van God naby jou en werk vir die redding van siele. Die Gees is die krag uit die hoogte om jou vir daardie werk voor te berei. Die belofte sal aan die gelowige, gewillige diensknegte wat die Gees nie vir eie genieting soek nie, maar vir die werk van die Here, vervul word.

Christus is met die Gees vervul sodat Hy in staat kon wees om vir ons te werk, te lewe en te sterwe. Gee jouself aan só ‘n Christus-gelykvormige lewe en sterwe vir ander mense oor, dan kan jy seker daarvan wees dat jy ook ‘n Christus-gelykvormige doop en volheid van die Gees sal ontvang.

Gebed: “Geseënde Here, hoe wonderbaarlik het U nie deur die gee van u Heilige Gees in ons behoefte aan ‘n groeiende gelykvormigheid aan U voorsien nie. U het vir ons gesê dat dit die Heilige Gees se werk is om U aan ons te openbaar en u teenwoordigheid in ons binneste aan ons te gee. Dit is deur Hom dat alles wat U vir ons verwerf het, al die lewe, heiligheid en krag wat ons in U sien, aan ons oorgedra en geskenk word. Hy neem uit wat aan U behoort, toon dit aan ons en maak dit ook ons eie. Geseënde Jesus, ons dank U vir die gawe van die Heilige Gees. Ons bid U, vervul ons met die Heilige Gees! Here, niks minder as dit is genoeg nie. Ons kan nie soos U gelei word, ons kan nie soos U stryd voer en oorwin, ons kan nie soos U liefhê en dien, en ons kan nie soos U lewe en sterwe as ons nie, soos U, vol van die Heilige Geees is nie. Geseënd is u grote Naam! U het beveel en U het beloof – dit mag, dit kan en dit sal so wees. Heilige Verlosser, vergader u dissipels om hiervoor te wag en te bid. Open hulle oë om die wonderlike onvervulde beloftes van strome van die Heilige Gees te sien. Laat hulle harte beweeg word om, soos U, hulleself vir die redding van siele vir u koninkryk te gee. Ons weet dit sal u vreugde wees om ons te doop met die Heilige Gees en met vuur. Ere aan u Naam. Amen.”

Watchman Nee 17