Print

Israel: 'n Historiese Eietydes en Profetiese Perspektief

Written by Prof Johan Malan.

isreal-boekOns leef in ‘n polities onstabiele, ekonomies sukkelende, geestelik verwarde en moreel vervalle wêreld waarin daar al hoe meer stemme opgaan vir ingrypende veranderings wat die weg moet baan na ‘n nuwe wêreldorde van vrede en eenheid. Daar word ‘n humanistiese (volgens die Bybel ‘n antichristelike) model vir ‘n nuwe wêreldorde gepropageer waarin daar aan Israel en die evangeliese Christendom ’n baie minderwaardige rol toegeken word, klaarblyklik in die hoop dat hulle spoedig van die toneel sal verdwyn. Die rede vir die toenemende verwerping van Israel en die evangeliese Christendom is omdat hulle té eksklusief en op die Bybel geskoei is en daarom nie by ‘n inklusiewe nuwe wêreldorde kan inskakel nie. Hulle waardes is ononderhandelbaar en totaal anders as dié van die humanistiese wêreld.

Teenoor die antichristelike hervorming van die wêreld is daar die Bybelse belofte van ‘n Christelike nuwe wêreldorde waarin Jesus Christus uit Jerusalem van die herstelde troon van Dawid af oor die aarde sal regeer (Hand. 15:16-17). Hy sal in noue samewerking met sy ware kerk (die evangeliese Christendom) en ook ‘n geestelik ten volle herstelde volk van Israel oor die wêreld heers en geregtigheid laat geskied (Op. 5:9-10; Jes. 62:1-4). Voorspoed en vrede sal oral heers, Israel en al die Here se diensknegte sal hoog in aansien wees, en almal sal hulleself van harte daaraan wy om die Here te behaag (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17).

Die huidige, gedeeltelike herstel van Israel is ‘n vaste bewys dat hierdie goddelike ingryping baie naby is. Eers gaan daar egter die donker tyd van ‘n sewe jaar lange regering van die Antichris oor die aarde aanbreek waarin byna alle mense op aarde, insluitend die meeste Israeli’s, hom as die ware Messias sal aansien en navolg (Op. 13:3). Wanneer die ware Christus egter enkele jare later kom, sal die koninkryk van Satan vernietig en die koninkryk van God in die plek daarvan gevestig word (Op. 11:15).

Is jy voorbereid op die ingrypende veranderings wat binnekort op aarde gaan plaasvind? Indien ons die regte perspektief op die problematiek van ons tyd wil hê, en ook die enigste werkbare oplossing wil nastreef vir die probleme wat ons bedreig, moet ons ‘n studie van Bybelse profesieë maak. Groot seën wag op die regverdiges, maar groot oordele op die onregverdiges. Die Here het ons in sy profetiese woord ten volle oor die belangrike eskatologiese gebeurtenisse ingelig: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moeg ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn” (2 Pet. 1:19).

Een van die belangrikste profesieë oor die eindtyd het die afgelope aantal dekades voor ons oë in vervulling gegaan, naamlik die herstel van die volk Israel in die land wat die Here deur ‘n eed aan hulle vaders beloof het. Hierdeur word die betroubaarheid en letterlike vervulling van God se beloftes aan Israel bo enige twyfel bewys, en daarmee saam die absolute geloofwaardigheid van die hele Bybel as die Here se geïnspireerde Woord. Terselfdertyd is die herstel van Israel, en spesifiek ook die herstel van Jerusalem as hulle hoofstad, vir ons ‘n duidelike teken dat die kerkdispensasie na sy einde spoed en dat die vestiging van Israel se Messiaanse koninkryk voor die deur is (Luk. 21:24; Sag. 8:22-33).

Dit is baie belangrik om die regte Bybelse begrip van Israel as God se volk te hê sodat die Here ons kan seën omdat ons Israel seën, hulle Bybelse aanspraak op die land Israel en die stad Jerusalem erken en hulle in hul stryd om oorlewing bystaan. Aan die ander kant bring nasies en individue ‘n vloek oor hulleself as hulle Israel vervloek, verwens, vervolg en probeer om hulle uit hulle grondgebied te verdryf (Gen. 12:3; Joël 3:2). Die gees van Jodehaat is die gees van die Antichris, daarom beveg dit alles wat uit God se oogpunt goed, eerbaar en opbouend is. In die komende verdrukking sal hierdie demoniese gees ingespan word om alle nasies teen Israel aan te hits en hulle te probeer verdelg (Sag. 12:2-3).

‘n Studie van Israel is ook vir elke Christen belangrik om die kwaliteit van ons geestelike toewyding en die opregtheid in ons verhouding met die Here te kan bepaal. Israel se ervarings is ‘n spieël waarin ons onsself kan sien, omdat dieselfde bitter gevolge op ons wag as ons nie die Here van harte dien nie. In hierdie opsig is Israel vir ons ‘n tipe, of voorbeeld, waaruit ons verskeie godsdienstige lesse kan leer (1 Kor. 10:1-12), maar ons sal dit alleen kan doen as ons goed met die belangrikste aspekte van hulle geskiedenis en geestelike ervarings vertroud is:

’n Lang onderbreking

Wanneer ons uit die oogpunt van Bybelse profesieë na Israel kyk, moet ons beslis nie die fout maak om hulle weens die lang onderbreking in hulle heilsgeskiedenis as God se uitverkore volk, as net van historiese en Ou Testamentiese belang te beskou nie – dit was slegs ‘n tydelike fase in hulle lang geskiedenis. Deur hierdie onderbreking het die Here vir Israel as sy spesiale begunstigdes en verteenwoordigers tydelik ter syde geskuif om aan die ganse wêreld guns te kon bewys. In hierdie tyd bied Hy aan alle mense van alle rasse en volksverbande die geleentheid om in die regte verhouding met Hom te kom en Hom as sy uitgeroepenes te dien. In die kerkdispensasie is sy gesante nie die lede van ‘n uitverkore volk nie, maar gelowiges uit alle volke – ook uit verstrooide Israel.

Die Here Jesus het oor die tye van die nasies gesê: “...Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Die nasies of volke wat teenoor Israel staan, word in Hebreeus as goyim (ekv. goy) beskryf en in Grieks as ethne (ekv. ethnos). Dit beteken “etniese groepe”, “volke” of “nasies”, asook “heidene”, omdat alle volke buite Israel in Ou Testamentiese tye heidene was wat nie die ware God van Israel geken het nie en as gevolg daarvan valse gelowe aangehang en vyandig teenoor Israel was.

Christus kondig egter nie deur die profesie in Lukas 21:24 die begin van die tye van die nasies aan nie, maar wel die verdere voortsetting en beëindiging daarvan. Die begin van Israel se oorheersing deur heidense nasies was tydens die Babiloniese ballingskap van Juda, en duur nog steeds voort. In die tyd van Jesus se aardse bediening was Israel aan die Romeinse Ryk onderdanig, daarom het ‘n heidense Romeinse goewerneur in Jerusalem die gesag gevoer. C.I. Scofield sê in sy Scofield Reference Bible (bl. 1345): “Die tye van die nasies is daardie lang tydperk wat begin het met die Babiloniese ballingskap van Juda tydens Nebukadnésar se bewind, en wat beëindig sal word deur die vernietiging van die nasies se politieke mag oor die wêreld deur die wederkoms van die Here Jesus in heerlikheid (Op. 19:11-21). Dit sal volgens Daniël gebeur wanneer ‘n klip sonder die toedoen van mensehande losraak en die beeld van aardse regerings tref en vernietig (Dan. 2:34-35, 44). Totdat daardie tyd aanbreek, sal Jerusalem polities aan die oorheersing deur die nasies onderhewig wees (Luk. 21:24).”

Dwight Pentecost (1985:1329) stem saam met hierdie stelling: “Met die inval van Nebukadnésar het ‘n belangrike profetiese tydperk aangebreek, naamlik die tye van die nasies (Luk. 21:24). Die tye van die nasies is daardie lang tydperk waarin die land wat God met ‘n verbond aan Abraham en sy afstammelinge gegee het, deur heidense magte beset word, en waarin daar op die troon van Dawid geen regmatige opvolger in die Dawidiese lyn is nie. Die tye van die nasies wat met Nebukadnésar se inname van Jerusalem in 605 v.C. begin het, sal voortduur totdat die Messias terugkeer. Christus sal dan die nasies onderwerp, die land Israel van heidense oorheersing bevry, die volk Israel geestelik herstel deur ‘n nuwe verbond met hulle te sluit, en daardeur die seëninge van sy millennium-koninkryk aan hulle verleen.”

Die gebeurtenisse wat in Daniël 1 beskryf word, is die begin van Israel se Babiloniese ballingskap en derhalwe ‘n belangrike keerpunt in die geskiedenis van Israel as die onafhanklike verbondsvolk van God in hulle eie land met Jerusalem as hulle hoofstad. Hier begin die tye van die nie-Joodse nasies, waarin heidense koninkryke oor Israel heers, heidense kulturele en godsdienstige gebruike op hulle afgedwing word, en waarin tyd volgens nie-Joodse kalenders, dikwels in terme van die regeringstermyne van heidense konings, bereken word.

Ná die val van Jerusalem en die beëindiging van Israel se koninklike dinastie sou die koningshuis van Dawid nie meer die verteenwoordiger van God se koninkryk op aarde wees nie en sou heidense konings die septer in die Midde-Ooste én die res van die wêreld swaai. Selfs ná Israel se herstel uit die Babiloniese ballingskap was hulle aan die oorhoofse gesag van heidense wêreldryke onderworpe, terwyl die tye van die nasies sy verdere loop geneem het. In die hele Nuwe Testamentiese bedeling is Jerusalem deur die nasies vertrap, terwyl die evangelie

wat van Jerusalem af uitgegaan het, tot aan die eindes van die aarde verkondig word. God se koninkryk sal eers weer as ‘n sigbare werklikheid op aarde gesien kan word wanneer Israel en Jerusalem ten volle herstel is en Jesus Christus op die troon van Dawid regeer. Voor die geboorte van Jesus het die engel aan Maria gesê haar Seun “sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32). Tydens sy eerste koms was Jesus die lydende Messias wat sy lewe vir die sondes van die hele wêreld afgelê het, maar met sy wederkoms sal Hy as Koning kom wat ook die vervalle troon van Dawid sal herstel.

Alle pogings deur koninkryksteoloë om God se koninkryk sigbaar op aarde te manifesteer sonder ‘n ten volle herstelde Israel en Jerusalem, is misleidend en onbybels, en kan net deur die Antichris gebruik word om ‘n humanistiese en multigodsdienstige koninkryk op aarde te vestig waarin Israel glad nie die leidende rol speel nie. Die ware kinders van God is steeds vreemdelinge en bywoners in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Pet. 2:11; 1 Joh. 5:19). Die doel met die evangelie is om mense uit “die teenwoordige bose wêreld” te red (Gal. 1:4), en nie om van die hele wêreld ‘n Christelike wêreld te maak en sodoende sigbare gestalte aan God se koninkryk te probeer gee nie. Dit sal eers gebeur wanneer die Koning kom, want Hy alleen kan die tye van die nasies beëindig en die troon van Dawid in Jerusalem herstel.

Ons leef in ‘n baie belangrike tyd van die wêreldgeskiedenis, waarin Jerusalem en Israel toenemend in afwagting op die koms van die Koning herstel word. Jerusalem is in Junie 1967 ten volle uit Jordaniese beheer bevry en in Augustus 1980 tot Israel se ewige en onverdeelbare hoofstad verklaar. Sedert Augustus 1980 het Jerusalem vir die eerste keer weer die status geniet wat dit voor die Babiloniese ballingskap laas gehad het – die hoofstad van ‘n onafhanklike Israel, maar nog steeds sonder ‘n koning.

Sedert die Babiloniese ballingskap was daar nooit weer ‘n opvolger van Dawid op die koninklike troon in Jerusalem nie, en sal daar ook nie een wees voordat die Messias weer kom nie. Dit is veral op die godsdienstige terrein duidelik dat die vertrapping van Jerusalem nog steeds voortduur omdat die Tempelberg beheer en vertrap word deur heidense volke wat hulle valse gode in die hart van Jerusalem aanbid. Hierdie situasie sal slegs verander wanneer Israel se Messias-Koning kom, want Hy sal die politieke magte van die nie-Jode vernietig (Op. 19:19-20) en ook “die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 13:2).

Ons nader nou die oomblik wanneer Dawid se troon herstel sal word en Jerusalem nog veel meer as in die glorieryke dae van Dawid en Salomo die middelpunt van wêreldgebeure sal wees. ‘n Voorvereiste hiervoor is dat dit wat geestelik met Israel verkeerd gegaan het, eers reggestel moet word. Die volk moet hulle bekeer deur die Messias as Verlosser aan te neem sodat die Here aan hulle nuwe harte kan gee (Eseg. 36:24-28).

Omdat Israel as volk steeds weier om die Here Jesus as Messias te erken, gaan die gedeeltelik herstelde Jerusalem in die komende verdrukking weer aan heidense beheer oorgegee word. Dit sal soortgelyk aan die Babiloniese ballingskap van Israel wees – hoewel korter maar nogtans in ’n baie erger graad. Jesus het Israel gewaarsku dat Israel ‘n valse messias sal aanvaar (Joh. 5:43), dat hierdie misleier die tempel in Jerusalem sal ontheilig (Matt. 24:15), en dat Jerusalem deur sy vyande ingeneem en byna deur hulle verwoes sal word (Sag. 14:2). Baie Jode sal weer eens vir oorlewing uit die stad moet vlug (Matt. 24:15-21). Aan die einde van die verdrukking sal Jesus as Messias skielik op die Olyfberg neerdaal, die oorblyfsel van Israel red, die vyandelike magte verdelg en sy koninkryk in Jerusalem vestig (Sag. 14:4-9).

Eers op daardie tydstip sal die tye van die nasies verby wees en Israel in sy posisie as hoof van die nasies herstel word. Tye van verkwikking sal dan vir hulle aanbreek voor die aangesig van die Here (Hand. 3:19).

In hierdie boek begin ons by Israel se roeping as die volk van God en die sluit van ‘n ewige verbond tussen hulle en Hom. Daarna volg ons die verhaal verder deur die volk se donker tye van geestelike en morele afvalligheid, en neem ook kennis van al die bitter gevolge wat dit vir hulle meegebring het. Ons gee baie aandag aan die eerste én tweede koms van die Messias.

Tydens sy eerste koms is Hy deur die groot meerderheid Jode verwerp, en as gevolg daarvan het hulle geweldige oordele oor hulleself gebring. Tydens Christus se wederkoms sal Hy egter deur Israel begroet en aanvaar word as die Geseënde van die Here (Matt. 23:37-39; Sag. 12:10).

Die Here Jesus wil almal van ons deel maak van sy ewige en onverganklike koninkryk. Ons leef steeds in die tyd waarin sy genade aan alle nasies tot aan die eindes van die aarde verkondig word. Weldra sal hierdie tyd egter verbygaan, en dan sal daar ‘n tyd van rekenskap en oordele aanbreek. As ons in Christus bly, kom ons nie in die oordele nie, omdat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe (Joh. 5:24; Rom. 8:1).

Diegene wat nie die profesieë oor die eindtydse herstel van Israel in die land van hulle vaders in ag neem nie, het nie ‘n Bybelse perspektief op dit wat God besig is om die wêreld te doen in voorbereiding op die wederkoms van Christus nie. Sulke mense loop gevaar om, soos die dwase maagde, hulleself profeties van die wêreld rondom hulle af te sluit. Hulle laat ook na om voorbereidings te tref vir hulle ontmoeting met die hemelse Bruidegom, wat gaan kom op ‘n uur wanneer niemand dit verwag nie. In die geestelike slaap waardeur hulle oorval is, kan hulle nie getuies vir Christus in die wêreld wees nie, en ook nie vir Israel tot seën wees deur hulle na die Messias terug te lei nie. Mag hierdie boek daartoe bydra om Christene te help om geestelik te ontwaak, te werk terwyl dit dag is, en ook vir Israel jaloers te maak oor die wyse waarop hulle die Messias liefhet en dien (Rom. 11:11).

Download PDF BOOK

Watchman Nee 88