Print

U Woord is `n Lig vir My Pad

Written by Prof Johan Malan.

Die volgende is ‘n reeks Bybelstudies oor belangrike Christelike leerstellings. Dit is nodig dat alle Christene se geloof stewig in hierdie waarhede veranker sal wees, sodat ons oortuigde volgelinge van die Here Jesus kan wees wat ons opdrag as getuies vir Hom doeltreffend sal uitvoer. Die enigste bron wat in hierdie studie gebruik word, is die Bybel, want jy moet “die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim. 3:15). Die Here self wil jou deur sy Woord onderrig, want “die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17).

Bybelstudie moet in ‘n ernstige en biddende stemming gedoen word, gedagtig aan die feit dat die Heilige Gees jou in jou hart van hierdie groot waarhede wil oortuig. Hy is die Gees van die waarheid wat jou op só ‘n wyse in die waarheid wil lei dat die Here Jesus verheerlik en sy beloftes en verlossingswerk volkome verstaan sal word (Joh. 14:26; 15:26; 16:13-14). Jou studie moet dus nie net ‘n verstandelike oefening wees nie, maar ook ‘n geestelike verryking deurdat jy die genade van die Here op ‘n toenemende wyse ervaar. Kennis en genade moet hand aan hand gaan, want “julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18).

In hierdie Bybelstudie word feitlik deurgaans net Skrifverwysings genoem, met die bedoeling dat elke persoon dit self sal naslaan en in die verband sal lees waarin dit geskryf is. Dit is belangrik dat die tekste gelees sal word, want op dié manier sal jy meer vertroud met die Bybel raak en vir meer studie gemotiveer word. In die proses kan elke leerstelling verder uitgebrei word. Voeg vir jouself nuwe notas aan die einde van elke hoofstuk by en stel ons daarvan in kennis sodat ons dit by hersiene uitgawes van die Bybelstudie in ag kan neem.

Ons voeg ook ‘n paar kernvrae by elke hoofstuk om jou te help om jou kennis oor die betrokke onderwerp te toets. Aan diegene wat skriftelik op die vrae wil reageer, of dalk ander vrae oor die inhoud van die Bybelstudie wil vra, kan dit per epos rig aan: Gerald en Heleen Vos by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Ons wil jou baie sterk aanraai om net die 1933 vertaling van die Bybel te gebruik, soos in 1953 hersien. Die Bybelgenootskap gee dit steeds uit omdat daar so ‘n groot aanvraag vir hierdie vertaling is. Op ons webblad www.bibleguidance.co.za is daar ‘n artikel waarin die foute en tekortkomings van die nuwe (1983) vertaling van die Bybel bespreek word. Dit sal gevind word by Afrikaanse Artikels onder die opskrif “Tekskritiek (Bybelvertaling)”: Verdraaiings in die Nuwe Vertaling.

Maak in die loop van jou studie van die geleentheid gebruik om kerntekste in die Bybel te merk en te memoriseer. Daar is so baie beloftes, opdragte, waarskuwings en vermanings in die Bybel waarvan ons kennis moet neem, dat ‘n intensiewe leerproses van God se Woord noodsaaklik is. Dit moet egter nie by kopkennis alleen bly nie omdat dit, op sy eie, jou nie geestelik kan verryk en opbou nie. Nadat jy ‘n teks gelees en gememoriseer het, moet jy dit bepeins en ter harte neem – m.a.w. dit moet in die geloof aanvaar word. Dan alleen sal jy kan sê: “Ek het u Woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Lofwaardig is U, o Here! Leer my u insettinge” (Ps. 119:11-12).

Dit is baie belangrik dat jy hierdie Bybelstudie met ‘n oop en ontvanklike gemoed sal benader. Ons het almal nog baie om uit die Here se Woord te leer, maar dan moet ons ‘n leerbare gees hê. As jy aan vooropgestelde idees en kerklike dogmas vashou, dan is jy alreeds bevooroordeeld nog voordat jy met die studie begin het. Sulke mense soek net in die Bybel na bevestiging vir hulle eie idees en ignoreer, vergeestelik of herinterpreteer alles wat daarmee in botsing is. In sulke gevalle word die Bybel misbruik om geloofwaardigheid aan die teologiese tradisies en gebooie van mense te gee (Matt. 15:8-9). Dit sal jou nie nader aan die waarheid bring nie, maar eerder verder daarvandaan af laat wegdryf.

Elke gelowige moet daarna streef om geestelik sterk te wees en op te groei na die volwasse man of vrou in Christus, “sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14). Satan wil ons van die Bybel en die regte verstaan daarvan weghou, sodat ons onder die geklank van verkeerde leringe kan kom en vervreemd raak van die opregtheid teenoor Christus (2 Kor. 11:3-4). Hierteen moet ons beslis en ernstig waak!

Dit moet ons groot doel wees om eendag voor die Here Jesus te staan en die volgende gunstige beoordeling uit sy mond te hoor: “Jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8). Om die Here se Woord te bewaar, beteken om dit te ken en te eerbiedig. Om sy Naam nie te verloën nie, beteken dat ons die volle omvang van sy godheid, versoeningswerk en reddende genade moet glo en bely. Mag die Here elke gelowige student van sy Woord hiertoe help.

Inhoudsopgawe

1. Die Drie-enige God

2. Jesus Christus

3. Die Heilige Gees

4. Die Woord van God

5. Satan en sy ryk

6. Sonde

7. Verlossing

8. Heiligmaking

9. Gebed

10.Dissipelskap

11.Die gemeente

12.Israel

13.Geestelike dwalings

14.Die wet en genade

15.Dispensasies in die Bybel

16.Die hemel en die hel

17.Tekens van die tye

18.Die wederkoms van Christus

19.Die Antichris

20.Die Regterstoel-oordeel

21.Die millennium

22. Beginsels van Toewyding

 

Afkortings:

Grieks: Gr.

Hebreeus: Heb.

Nuwe Testament: NT

Ou Testament: OT

 

1. Die Drie-enige God

Die God van die Bybel is ‘n Drie-enige God – God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Hulle bestaan al drie van alle ewigheid af, want die Vader het die wêreld deur die Seun gemaak (Heb. 1:2). Johannes beskryf die pre-geïnkarneerde Seun as die Logos, of die Woord, wat van die begin af bestaan (Joh. 1:1). Hy was nie net by God nie, maar was self ook God. Die derde Persoon is die “ewige Gees” (Heb. 9:14), wat ook as God ‘n ewige selfbestaan het.

Die drie Persone in die Godheid word só deur Johannes beskryf: “Daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Al drie Persone kan as Here (Heb. Jahweh; Gr. Kurios) en God (Heb. Elohim; Gr. Theos) beskryf en aangespreek word. Paulus het vir Jesus op die pad na Damaskus as Here aangespreek (Hand. 9:5), en ook na Hom as God verwys (Rom. 9:5).

Die eerste naam vir God wat in die Bybel gebruik word, is Elohim. Hierdie naamwoord word in Hebreeus beide in die enkelvoud én in die meervoudsvorm gebruik, dus dui dit daarop dat die Godheid meervoudig is, maar tóg ‘n saamgestelde eenheid vorm. Dit is drie persone, Vader, Seun en Heilige Gees, wat saam een, ewige God is. Hierdie begrip blyk duidelik uit die persoonlike voornaamwoorde wat vir Elohim gebruik word. In verband met die skepping van die mens word daar gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis… En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen. 1:26-27). Die Drie-enige God kan tereg sê: “Laat Ons mense maak,” en dan daarna: “man en vrou het Hy hulle geskape.”

Die feit van die Here Jesus se ewige godheid en selfbestaan word in ‘n baie bekende geloofsbelydenis verloën: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en aarde, en in Jesus Christus sy eniggebore Seun...” Die indruk word hierdeur geskep dat God die Vader alleen was toe Hy die aarde geskape het, en dat Jesus eers veel later gegenereer en “as mens” gebore is. Beoordeel hierdie verkeerde indruk in die lig van Heb. 1:1-2; Joh. 1:1-3,10,14; 1 Kor. 8:6; Ef. 3:9 en Kol. 1:16-17.

God as Skepper

Die Drie-enige God (Heb. Elohim) het Homself in die Ou Testament (OT) in die eerste plek as die Skepper geopenbaar van alles wat bestaan (Gen. 1:1–2:3).

God het skeppingskrag in Homself. Deur net ‘n woord te spreek, het Hy alles in aansyn geroep (Ps. 33:6; Heb. 11:3; 2 Pet. 3:5). In Gen. 1 lees ons telkens: “En God het gesê...” So ook is daar in die evangeliewoord ‘n dinamiese krag om ons lewens te herskep (Rom. 1:16).

Die aanvanklike skepping (Gen. 1:1-2) het geëindig in ‘n situasie waarin die aarde woes, leeg en in duisternis gehul was. Die Here het nie die aarde geskape om woes en onbewoon te wees nie (Jes. 45:18), daarom is dit duidelik dat verwoestingswerk van ‘n groot omvang in die skepping aangerig is. Die enigste Bybelse verklaring hiervoor is die uitwerping van Lucifer uit die hemel (Jes. 14:12-17; Eseg. 28:12-17; Op. 12:3-4). Die aarde was vir ‘n ongespesifiseerde tydperk in ‘n woeste toestand.

In die daaropvolgende skeppingswerke van die Here het Hy orde in reeds bestaande materie gebring en alle lewensvorme (plante, diere en die mens) volgens hulle soorte geskape. Die mens is nie deel van die natuurlike skepping nie, maar uniek in dié sin dat net die mens na die beeld van God geskape is, en ook die opdrag gekry het om oor die natuurlike skepping te heers (Gen. 1:27-31; Ps. 8:4-9).

Die skepping lewer getuienis van die feit dat daar ‘n intelligente Skepper is wat alles gemaak het (Ps. 19:2; Jes. 37:16). Sy ewige krag en goddelikheid blyk uit die werke van sy hande (Rom. 1:20). Dit is onmoontlik dat daar sonder God ‘n ordelike skepping kon ontstaan.

Deur die evolusieteorie word God as Skepper verloën, en word die mens se bestaan aan ‘n natuurlike, evolusionêre ontwikkelingslyn deur die diereryk gekoppel (Rom. 1:23). Mense wat aan hierdie leuen glo, word dwaas in hulle harte (Rom. 1:21-22). Die dwaling van die verwerping van God as Skepper kan ook tot ateïsme lei, en sulke mense het geen absolute geestelike en morele norme in hulle lewe nie (Ps. 14:1).

Name van God

God (Heb. Elohim of in verkorte vorm El; Gr. Theos) – Gen. 1:1; 17:1; Rom. 1:1.

Here (OT) en Here (NT) (Heb. Jahweh; Gr. Kurios) – Gen. 4:1; Matt. 1:20. Die naam Jahweh word dikwels aan sekere werkwoorde of naamwoorde gekoppel om attribute van die Here te beklemtoon, bv. Jahweh-jireh (die Here sal voorsien), Jahweh-nissi (die Here is my banier) en Jahweh-shalom (die Here is vrede).

Here (Heb. Adonai; Gr. Kurios) – Gen. 18:27; 2 Pet. 2:9.

Here Here (Heb. Adonai Jahweh) – Gen. 15:2.

Here  [jou] God (Heb. Jahweh Elohim; Gr. Kurios Theos) – Ex. 20:2; Matt. 22:37.

Ek Is – Ex. 3:14; Joh. 8:58.

Almagtige God (Heb. El-Shaddai; Gr. Theos Pantokrator) – Gen. 17:1; Op. 16:14.

Ewige God – Deut. 33:27.

Die lewende God – Jos. 3:10.

Here God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde – Gen. 14:22.

Die God van die hemel – Jona. 1:9.

Die God van Abraham, Isak en Jakob – Ex. 3:6; Hand. 3:13.

Die Heilige van Israel – Jes. 43:3.

Here van die leërskare – Jes. 1:24.

Die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God – 1 Tim. 1:17.

Enigste Heerser, Koning van die konings en Here van die here – 1 Tim. 6:15.

Jahweh en Adonai

Omdat die oorspronklike Hebreeuse teks van die OT net uit konsonante bestaan, is Jahweh slegs as JHWH geskryf en in ‘n stadium verkeerdelik as “Jehowah” uitgespreek. Die regte uitspraak is Jahweh. In ‘n letterlike navolging van die derde gebod (“Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydelik gebruik nie”) gebruik ortodokse Jode meesal net die naam Adonai. In die OT het slegs die Hoëpriester een maal per jaar, wanneer hy die Allerheiligste betree het om versoening vir die volk se sondes te doen, die Naam Jahweh gebruik. Daar word egter nie oneer aan die Here gedoen as sy Naam in gesprekke, preke en gebede met eerbied gebruik word wanneer ons na Hom verwys of met Hom praat nie. Die ydele  gebruik van sy Naam is wanneer mense dit op ‘n lasterlike wyse as ‘n uitroep van verbasing of ontsteltenis gebruik. Sodoende minag hulle die Here en maak van sy heilige Naam ‘n vloekwoord. Hulle sal nie ongestraf bly nie.

Natuurlike attribute van God

God is onvergelyklik (2 Sam. 7:22), onsigbaar (Joh. 1:18), ondeurgrondelik (Jes. 40:28), onveranderlik (Num. 23:19), sonder gelyke (Jes. 40:13-25), onnaspeurlik (Rom. 11:33-34), oneindig (1 Kon. 8:27), ewig (Jes. 57:15), almagtig (Jer. 32:17,27), alomteenwoordig (Ps. 139:7-12), en alwetend wat die verlede, hede én toekoms betref (Hand. 15:18; 1 Joh. 3:20; Jes. 48:3-5).

Morele attribute van God

Liefde (1 Joh. 4:8,16), heiligheid (1 Pet. 1:15; Op. 4:8), goedheid en goedertierenheid (Ex. 34:6; Ps. 31:20; 52:3; 145:8-9), geregtigheid (Ps. 89:15), haat sonde en ongeregtigheid (Ps. 5:5-7, 45:8; Heb. 1:9), onpartydigheid (Hand. 10:34-35; 1 Pet. 1:17), barmhartigheid (Ex. 20:6; Jes. 55:7), genade (Rom. 3:23-24; 2 Kor. 9:8) waarheid (Joh. 14:6, 17:17) en toorn (Ps. 2:5,12; 21:10; Op. 6:15-17).

Gelykvormigheid aan God se beeld

In Génesis 1:26 sê die Drie-enige God: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” In hierdie woorde waarmee die Skepper die Bybelse geskiedenis van die mens begin, het ons die openbaring van die ewige doel waaraan die mens sy bestaan te danke het, en ook die heerlike, ewige toekoms waarvoor hy bestem is. Die Here het besluit om ‘n wese te maak wat sy beeld en gelykenis sal wees. Toe sonde ingekom en die mens uit sy hoë roeping verval het, het God nie sy doel met hom laat vaar nie. Dit was met hierdie doel in gedagte dat die Vader die Seun na die aarde toe gestuur het as die uitdruklike beeld van Homself. In Hom is die God-gelykvormigheid waarvoor ons geskape is, en wat ons persoonlik moet aanneem om dit ons eie te maak.

Ons kan net soos God word met betrekking tot sy morele attribute soos liefde en heiligheid, maar nie met betrekking tot sy natuurlike attribute nie, want ons is nie gode nie. Die sentrale gedagte van God se openbaring aan Israel én die kerk is: “Wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44; 1 Pet. 1:15-16). Die skeppingsdoel met die mens kan slegs bereik word as ons die sonde afsterf deur aan die dood van Christus gelykvormig te word, en daarna deur die werking van die Heilige Gees ook aan sy opstandingslewe gelykvormig te word (Rom. 6:5). Deur geloof in Christus se kruisdood kan ons die sondige natuur van die eerste Adam aflê en ons met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:22-24). Christus is die tweede Adam, en net Hy alleen kan aan die mensdom die goddelike lewe teruggee waartoe ons geroep is, maar wat ons deur die sondeval verloor het.

Persoonlike toewyding

Ek herbevestig my geloof in die Drie-enige God. Die grote God van die hemel en die aarde het Homself in drie Persone aan my geopenbaar, daarom kan ek getuig van die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees (2 Kor. 13:13). Ek stel myself ten doel om God in al sy wonderlike hoedanighede beter te leer ken, sodat sy beeld wat deur die sondeval in mense se lewens verbreek is, ten volle in my herstel kan word. God het nie net deur Jesus Christus die aarde geskape nie, maar Hom ook as ‘n versoening vir ons sondes na die wêreld gestuur sodat alle gevalle sondaars deur Hom herskep kan word. Watter hoop het daar nie vir die wêreld gekom nie dat in dié mense se lewens waar daar vroeër duisternis en wanorde was, die lig van die Here se teenwoordigheid kan opgaan om alles nuut te maak! Ek wy myself opnuut aan die opdrag om die goeie boodskap van die evangelie van Jesus Christus aan verlore sondaars uit te dra, sodat hulle uit die dood na die lewe kan oorgaan.

Vrae

1.    Hoe word ons in 1 Joh. 5 aan die Drie-enige God voorgestel?

2.    Van wanneer af bestaan die Here Jesus as God en as mens?

3.    In watter opsig is die evolusieleer ‘n aanval op God?

4.    Noem vyf name vir God en verduidelik die betekenisse daarvan.

5.    Noem en verduidelik drie natuurlike en drie morele attribute van God.

 

2. Jesus Christus

God het Homself deur sy Seun aan die wêreld geopenbaar, daarom het elkeen wat Hom gesien het, die Vader gesien (Joh. 14:7-11). In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik (Kol. 2:9). Dit is belangrik om te weet dat Jesus tydens sy menswording sy hemelse heerlikheid as God net tydelik afgelê het om die gestalte van ‘n nederige dienskneg aan te neem en aan die kruis vir ons sondes te sterf (Fil. 2:6-7). Hy het net sy heerlikheid as God afgelê en nie sy status en gesag as God nie, daarom was Hy Emmánuel – God met ons (Jes. 7:14; Matt. 1:23). Uit ‘n studie van die verskillende name, titels en ampte van die Here Jesus sal ons goed verstaan wie Hy is, waarvoor Hy na die aarde gekom het, wat Hy op die oomblik in die hemel doen en wat sal gebeur wanneer Hy met sy wederkoms na die aarde terugkom.

Die name van die Here Jesus kan in die volgende vier kategorieë verdeel word:

1. Sy Eienaam

Die naam Jesus (Die Here is Verlossing; Heb. Jeshua) is deur God die Vader aan sy Seun gegee (Matt. 1:20-21). Om volgens God se standaarde die Verlosser van die volk Israel én van die hele wêreld te wees, moes Jesus die volmaakte God-mens wees. Hy moes in ‘n menslike geslag (die koninklike linie van Dawid in Israel se stam van Juda) gebore word om Seun van die mens te kan wees. Nogtans moes ‘n man Hom nie verwek nie, sodat Hy nie enige deel aan die menslike ras se erfsonde sou hê nie. Hy moes dus deur die beskikking van God uit ‘n maagd gebore word sodat Hy ook Seun van God kon wees (Luk. 1:27,35).

2. Sy Naam as God

In sy hoedanigheid as God is Jesus gelyk aan en een met die Vader (Joh. 10:30; 14:9), daarom word Hy ook Here en God genoem. Dit is belangrik om Hom in hierdie hoedanigheid aan te spreek wanneer ons bid of oor Hom praat. Met die uitstorting van die Heilige Gees het die apostels die volle openbaring oor Jesus se godheid ontvang, daarom hulle verwysing na Hom as “die Here Jesus” (Ef. 1:15), “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1) en “die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Elke tong sal dit nog bely (Fil. 2:9-11).

3. Sy Ampsnaam

Die Here Jesus is ook die Gesalfde [Heb. Mashiach (Messias); Grieks Christos (Christus)] wat vir sy sending na die aarde afgesonder en deur die Gees van die Here gesalf is om vir die gevangenes van Satan vrylating uit te roep (Jes. 61:1; Joh. 1:42). Christus is ‘n oorkoepelende ampsnaam van die Here Jesus omdat Hy vir agt ampte of take afgesonder is wat net deur Homself vervul kan word. Die ampte waarvoor Christus gesalf is, asook die besondere titels wat daaraan verbonde is, is die volgende:

3.1.  Lam van God

Die belangrikste rede waarom die Here Jesus gesalf en afgesonder is om na die aarde te kom, was om ‘n gevalle mensdom uit die mag van die sonde los te koop. Om dit te kon doen, moes Hy ‘n mens word sodat hy Homself as ‘n offer vir ons sondes kon aanbied deur sy bloed te stort en liggaamlik aan die kruis te sterf. Hy moes God se Offerlam word (Heb. 10:4-5,7,10). Johannes die Doper het Hom as die Lam van God voorgestel (Joh. 1:29). Jesaja het die volk lank tevore reeds op die groot offer van die Lam van God voorberei (Jes. 53:5-7). Geen voorstelling van Christus sonder verwysing na sy bloed wat Hy vir ons gestort het, is volledig nie (Rom. 3:25-26).

  • Ons redding is op die bloed gebaseer (Rom. 5:9; Ef. 1:7; 1 Pet. 1:18-19; Op. 1:5).
  • Ons verdere reiniging is op die bloed gebaseer (1 Joh. 1:7; Heb. 9:14; 10:12,14; 1 Kor. 5:6-7).
  • Die bloed is ook 'n magtige wapen teen die aanslae van die vyand (Op. 12:11).

Die hoedanigheid van Christus as die Lam van God wat sy lewe vir sondaars afgelê het, is die grondslag vir al sy ampte. Omdat Hy die losprys betaal het, kan Hy as Profeet, Hoëpriester, Middelaar, Dienskneg en Herder optree, Hoof van sy vrygekoopte gemeente wees en as Koning oor sy erfdeel regeer. Hy kan ook Regter oor sy diensknegte wees, én daarna oor almal wat nie sy versoeningswerk wou aanvaar om van hulle sonde gereinig te word nie.

3.2  Profeet

‘n Profeet is ‘n aankondiger van die wil en plan van God met die mens, m.a.w. ‘n prediker. Dit was Jesus Christus by uitnemendheid. Van sy bekendste preke is die bergpredikasie, die gelykenisse en die profetiese rede. Jesus het groot waarhede oor God se raadsplan bekend gemaak, wat nog nooit tevore deur ander profete gedoen is nie (Matt. 13:35; Luk. 8:1).

3.3  Hoëpriester en Middelaar

Jesus Christus is die Hoëpriester en Middelaar van die Nuwe Testament omdat Hy deur sy kruisdood self die Borg daarvoor is (Heb. 8:1-6; 9:15). Omdat Hy as mens ook versoek is, kan Hy medelye met ons hê (Heb. 2:17-18; 4:15-16). Die Here Jesus is as Hoëpriester en Middelaar ons Voorspraak by die troon van die Vader (1 Joh. 2:1-2).

3.4  Kneg

Jesus is die Kneg van die Here wat na die aarde toe gekom het om ‘n groot verlossingswerk vir Israel én alle nasies van die aarde te doen (Jes. 49:5-6; 50:10). Die eienskappe van ‘n kneg is nederigheid en diensbaarheid, daarom het die Here Jesus sy dissipels ernstig teen hoogmoed en selfverheffing gewaarsku (Mark. 10:42-45; vgl. ook Fil. 2:5-9).

3.5  Herder

Christus het as die Herder van sy kudde ‘n absolute verbintenis tot hulle welsyn omdat Hy hulle duur gekoop het met sy kosbare bloed (Joh. 10:11). Hy het ‘n vaste versekering van redding aan hulle gegee (Joh. 10:7,9). Hy het nie net lewe nie, maar ‘n oorvloedige lewe aan hulle beloof (Joh. 10:10). Hy gee ook die versekering dat Hy hulle nie sal begewe of verlaat nie (Heb. 13:5).

3.6  Hoof van die gemeente

Jesus Christus is die Hoof van die gemeente (Ef. 1:22). Die eenheidsband tussen Christus en die gemeente word met ‘n huweliksverhouding vergelyk (Ef. 5:23). Uit Ef. 5:25-27 is dit duidelik dat Christus eers die gemeente gereinig en daarna geheilig het, sodat die gemeente rein en sonder vlek of rimpel voor Hom gestel kan word.

3.7  Koning

Omdat die Here Jesus alle mag in die hemel en op aarde het (Matt. 28:18), beklee Hy ook die amp van Koning. In hierdie bedeling rebelleer die nasies teen sy gesag, omdat Satan hulle mislei het (2 Kor. 4:4). Hierdie toestand sal drasties verander wanneer die Koning aan die einde van die verdrukking terugkeer aarde toe (Ps. 2:1-12; Op. 11:15; 19:11-21; Hand. 15:16-17; Jes. 9:5).

3.8  Regter

Alle Christene sal voor die regterstoel van Christus verskyn om rekenskap van hulle lewens ná bekering te gee (Rom. 14:10,12; 2 Kor. 5:10). Tydens die komende verdrukking sal sy toorn oor die sondaars op aarde uitgegiet word (Op. 6:16-17). Ná die vrederyk sal Hy ook die Regter van al die verlorenes van alle eeue wees (Hand. 17:30-31; Op. 20:11-15).

4. Sy beskrywende name

Daar is verder ook ‘n groot aantal beskrywende name van die Here Jesus in die Bybel. Hierdeur word die klem op bepaalde aspekte van sy Persoon en werk geplaas, sodat ons Hom nóg beter kan ken, verstaan en liefhê. Die volgende is voorbeelde hiervan:

  • Die lig van die wêreld. Hy is die waaragtige lig wat elke mens verlig. Elkeen wat Hom volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie (Joh. 1:4,9; 8:12).
  • Die Woord van God. Hierdie Woord het vlees geword om deur sy kruisdood die Verlosser van ‘n gevalle mensdom te word (Joh. 1:1,14; Heb. 10:10; 1 Joh. 5:7; Op. 19:13).
  • Die brood en water van die lewe. Net Hy kan die geestelike honger en dors van die mensdom versadig (Joh. 6:33-35).
  • Die rots en fondament. Hy is die vaste Rots waarop elke Christen se lewe gebou is, daarom kan ons onwankelbaar vasstaan te midde van die hewigste storms (1 Kor. 3:11; Matt. 7:24-27; Ps. 40:3).
  • Die weg, die waarheid en die lewe. Hy is die enigste pad na die hemel, want net deur Hom verkry ons die ewige lewe. Sy beloftes is waar (Joh. 11:25-26; 14: 6; 2 Kor. 1:20).
  • Die ware wynstok. Die lewe in Christus is soos ‘n loot in die wynstok, wat baie vrug dra. Die lewe kom van Hom af, en sonder Hom kan ons niks doen nie (Joh. 15:1-2,5).
  • Die wysheid van God. Hy openbaar die wysheid van God aan ons en gee aan ons verligte oë van die verstand om die Woord te kan verstaan (1 Kor. 1:23-24,30; Ef. 1:18; Kol. 2:3).
  • Die Voorspraak. Wanneer Christene sondig en dit weer bely en laat staan, tree Jesus as hulle Voorspraak by God se troon op (1 Joh. 2:1), waar Satan hulle ook aankla (Op. 12:10).
  • Die Oorwinnaar. Hy het die vyand oorwin en sal hom ook onder ons voete verbrysel (Rom. 16:20). In Christus kan ons meer as oorwinnaars wees (Rom. 8:37).
    • Die heiligmaker. Hy skenk nie net aan ons verlossing nie, maar ook heiligmaking sodat ons oorwinnend kan leef en eendag sonder gebrek voor Hom kan verskyn (1 Kor. 1:30; 5:7-8; Ef. 5:25-27; 1 Thess. 4:3,7).
    • Die blink môrester. In Hom het ons ‘n vaste hoop op ‘n nuwe dag wat met sy wederkoms oor hierdie donker wêreld sal aanbreek (Op. 2:28; 22:16; vgl. ook 2 Pet. 1:19).
    • Die Bruidegom. Wat ‘n vooruitsig om as die bruid van die hemelse Bruidegom na ons ontmoeting met Hom uit te sien, en dan vir altyd by Hom te wees (Matt. 25:1-13; 2 Kor. 11:2; 1 Thess. 4:16-17).

Persoonlike toewyding

My gebed is dat ek ‘n toegewyde volgeling van Jesus Christus sal wees, dat ek voortdurend van alle sondes gereinig sal word deur sy bloed (1 Joh. 1:7), dat ek in sy genade en kennis sal toeneem (2 Pet. 3:18), dat ek Hom nooit sal verloën deur sy maagdelike geboorte, sy godheid, die groot betekenis van sy kruisdood, en die beloftes oor sy wederkoms te verloën nie, dat ek myself daagliks met Hom sal beklee en geen voorsorg vir die vlees sal maak om sy begeerlikhede te bevredig nie (Rom. 13:14). “God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei” (2 Kor. 2:14). In Hom leef ons, beweeg ons en is ons (Hand. 17:28).

Vrae

1.    Wat beteken die naam Jesus?

2.    Verduidelik die godheid van Jesus.

3.    Noem en bespreek drie ampte van Christus

4.    Wat is die betekenis van die bloed van Christus wat gestort is?

5.    Bespreek die betekenisse van drie beskrywende name van Jesus

 

3. Die Heilige Gees

God se Gees staan onder verskeie name bekend, waaronder die volgende: Die Gees (Joh. 7:39), die Gees van God (Gen. 1:2), die Gees van die Here (Jes. 11:2), die Gees van die Vader (Matt. 10:20), die Gees van Christus (Rom. 8:9), die Gees van die Seun (Gal. 4:6), die Heilige Gees (Ps. 51:13), die ewige Gees (Heb. 9:14), die Trooster (Joh. 14:16), die Gees van genade (Sag. 12:10), die Gees van die waarheid (Joh. 14:17), die Gees van heiligheid (Rom. 1:4), die lewendmakende Gees (Joh. 6:63; Rom. 8:2), die Gees van aanneming tot kinders (Rom. 8:15), die Gees van wysheid (Deut. 34:9), die Gees van raad en sterkte (Jes. 11:2), die Gees van kennis en van die vrees van die Here (Jes. 11:2), die Gees van die heerlikheid (1 Pet. 4:14) en die Gees van die profesie (Joh. 16:13; Op. 19:10).

God openbaar Homself op verskillende maniere deur die Heilige Gees, en dit neem die vorm van ‘n verskeidenheid bedieninge van die Gees aan, waarvan die volgende die belangrikste is:

Die Gees wat van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig

Wanneer die Heilige Gees met ‘n persoon bemoeienis maak, oortuig Hy hom van sy sonde, van Christus se geregtigheid en van die oordeel wat oor Satan en al die goddeloses uitgespreek is (Joh. 16:8-11). Alle mense is sondaars (Rom. 3:10-12). Die grootste sonde is om die Here Jesus as Verlosser en Seun van God te verwerp (Matt. 23:32-38). God se geregtigheid vereis ‘n lewe wat in ooreenstemming met sy heiligheid is (1 Pet. 1:15). Indien mense van hierdie standaard afwyk omdat hulle slawe van sonde is, vereis God se regverdigheid die doodstraf oor sondaars (Rom. 6:23; Eseg. 18:4). Hierdie bepaling maak die hele mensdom doemwaardig voor God (Rom. 3:10). Net die Here Jesus het ‘n volmaakte lewe gelei waarin die geregtigheid van God volkome geopenbaar is. Deur sy kruisdood het Hy die doodstraf namens alle sondaars uitgedien en sodoende aan die eis van God se regverdige straf oor die sonde voldoen. Aan almal wat in Jesus Christus en sy plaasvervangende dood glo, word die geregtigheid van God toegereken (Rom. 5:17). Ons kleed van sonde is op Hom gelê, en sy kleed van geregtigheid word op ons gelê wanneer ons Hom as Saligmaker aanneem. Baie mense probeer steeds om deur ‘n goeie lewe hulle eie geregtigheid op te rig en verwerp sodoende die hart van die kruisevangelie (Rom. 10:3). Sulke mense roem in hulle goeie lewe en selfs kerklidmaatskap, maar weerstaan die Heilige Gees wanneer Hy hulle van die geregtigheid van God deur die geloof in Jesus Christus wil oortuig. Die dood en opstanding van Jesus was ook ‘n oordeel oor Satan (Joh. 12:31). Jesus het oor hierdie duistere magte getriomfeer (Kol. 2:15). Hoewel Satan oorwin is, is hy steeds aktief in die stryd teen alle Christene gewikkel (1 Pet. 5:8), maar hy is ‘n veroordeelde vyand van God wie se lot reeds bepaal is (Op. 20:2,7-10). Almal wat in sy hand speel deur saam met hom teen God te rebelleer, sal sy oordeel in die hel met hom deel (Op. 20:10,15).

Die Gees van genade en smekinge

Die Heilige Gees is werksaam in almal se lewens wat die ware evangelie hoor, en beweeg hulle om in sonde-oortuiging en met berou en gebrokenheid van hart hulleself voor die Verlosser, Jesus Christus, te verootmoedig en om sy reddende genade te bid. Die Here het behae in ‘n gebroke gees en ‘n verslae hart (Ps. 34:19; 51:19). In die komende verdrukking sal die Gees van genade en smekinge opnuut oor Israel uitgestort word (Sag. 12:10).

Die Gees wat wederbaar

“Dit is die Gees wat lewend maak” (Joh. 6:63). Hy wederbaar berouvolle sondaars wat dood was in hulle sondes en misdade, om van hulle nuwe mense te maak (Rom. 8:2; 2 Kor. 5:17). Ongeredde mense is geestelik dood, daarom word hulle by bekering deur die Gees lewend gemaak. Geredde persone het oorgegaan uit die dood in die lewe (Joh. 5:24; Ef. 5:14). Die Heilige Gees doop ons by ons wedergeboorte in die liggaam van Christus (1 Kor. 12:13).

Die Gees wat met krag vervul

Nadat ons op grond van die genadewerk van Jesus Christus deur die Gees van God gewederbaar is, moet elke gelowige om drie belangrike redes ook met die krag van die Heilige Gees vervul word:

0.    Dit verleen aan ons krag om Jesus se getuies te wees (Hand. 1:8). Sonder hierdie toerusting met krag uit die hoogte kan ons nie vir die Here werk nie.

1.    Die krag van die Here is nodig om geestelik uit die swak babastadium tot die volwasse man of vrou in Christus op te groei (Ef. 4:13-14). Ons moet insig in die dieper dinge van die Here verkry en die pad van geloof met vaste treë bewandel.

2.    Ons het ook die krag van die Gees nodig om geestelik sterk te word vir die stryd teen die Bose (Ef. 6:10-11). Dit is eers wanneer ons met die Gees vervul is, dat ons sterk sal wees om versoekings te kan weerstaan (Gal. 5:16).

Die Gees wat bekwaam maak vir diens

Vervulling met die Heilige Gees gaan ook met gawes gepaard om gelowiges vir bepaalde bedienings, of dienswerk, in die liggaam van Christus bekwaam te maak (Rom. 12:4-8; 1 Pet. 4:10). Die een mag ‘n gawe van onderrig hê, ‘n ander van voorbidding, bemoediging of hulpverlening, maar alles moet in liefde geskied, want dit is die grootste gawe van almal. Ons moet ons gawes aktief beoefen en nie deur mensevrees verhinder word om dit te doen nie (1 Tim. 4:14; 2 Tim. 1:6-7). Die Heilige Gees besluit self watter gawes om aan mense te gee (1 Kor. 12:4-11). Dit kan wyd uiteenlopend van aard wees, want daar is baie ondersteuningsdienste in die verkondiging van die evangelie nodig.

Die Gees van godsvrug

Alle bekeerdes het ‘n opdrag om geestelike vrugte te dra waardeur die Here verheerlik en sy koninkryk uitgebrei word (Matt. 3:8; Rom. 6:22). Nege vrugte van die Heilige Gees word genoem (Gal. 5:22). Ons verhouding teenoor God moet deur sý liefde gekenmerk word wat deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort word (Rom. 5:5), deur die blydskap van die Here omdat Hy ons siele gered het, en deur sy vrede wat alle verstand te bowe gaan. Teenoor ons medemense moet ons lankmoedig wees deur gedurig vir hulle te bid en stadig te wees om hulle te veroordeel; ons moet ook vriendelik wees en op verskeie maniere aan hulle goed doen. As individue moet ons getrou in die uitvoering van ons pligte wees, ‘n sagmoedige en leerbare gees hê, en altyd selfbeheersing beoefen.

Die Gees wat ons lei en heilig

Die Heilige Gees is by uitstek ‘n Leidsman en Trooster. Hy verleen aan ons die bewussyn van die gedurige teenwoordigheid en inwoning van die Here in ons lewe, sodat ons nooit alleen hoef te voel nie. Ons moet besef dat ons liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is, en dat dit ‘n verpligting op ons plaas om heilige lewens te lei (1 Kor. 3:16-17; 2 Kor. 7:1).

Die Gees van wysheid

Die Heilige Gees is die Gees van wysheid (Jes. 11:2). Hy gee aan ons verligte oë van die verstand (Ps. 13:4; 147:5; Ef. 1:18-19). Indien ons oor enigiets sou twyfel, moet ons om die wysheid van die Here bid (Jak. 1:5). In die Drie-enige God is alle skatte van wysheid en kennis verborge (Kol. 2:3). Deur die Gees wil God jou lei en raad gee (Ps. 32:8).

Die Gees van die waarheid

Ons moet die volle waarheid omtrent die weg van die Here ken en toepas, en daarvoor het ons die Gees van die waarheid nodig wat ons in die hele waarheid van God se Woord sal lei (Joh. 16:13; 1 Joh. 2:27). Hierdie waarheid het ‘n vrymakende krag (Joh. 8:32), maar dan moet ons deur intensiewe Bybelstudie goeie kennis verkry. Dan alleen sal ons in die lig van die Woord en onder die leiding van die Heilige Gees ‘n goed ontwikkelde oordeelsvermoë hê (1 Joh. 4:1-6).

Die Gees van die profesie

Johannes 16:13 sê dat die Heilige Gees ook die toekomstige dinge aan ons sal verkondig. Hy help ons om ‘n wederkomsverwagting te hê, Bybelse profesieë te verstaan en die woord van die waarheid reg te sny (2 Tim. 2:15). Moenie die profesieë verag nie (1 Thess. 5:20), want deur op die vervulling van profesieë ag te slaan, wil die Heilige Gees ons voorberei op dit wat in die toekoms gaan gebeur. As ons hierdie ingesteldheid het, sal ons nie ons wederkomsverwagting verloor en geestelik aan die slaap raak in die middernaguur van hierdie bedeling nie.

Die Heilige Gees self waarsku ons ook teen groot afvalligheid en geestelike misleiding wat in die eindtyd sal voorkom (1 Tim. 4:1). Hierdie misleiding sal deur Satan se gees van dwaling voortgedryf word (1 Joh. 4:6), wat groot hoeveelhede valse profete tot sy beskikking sal hê (1 Joh. 4:1). Opspraakwekkende tekens en wonders sal deur hulle gebruik word, asook buite-Bybelse openbarings oor wat God na bewering vir die “profeet” of “apostel” sê. Hierdeur sal ‘n verdraaide weergawe van Jesus, van die evangelie én van die Heilige Gees aangebied word (2 Kor. 11:4). Die Heilige Gees, wat getroue kinders van die Here in die hele waarheid van die Woord lei, en ook aan ons onderskeidingsvermoë gee, waarsku ons ernstig teen hierdie eindtydse verskynsels (Joh. 16:13).

Persoonlike toewyding

Daar is diepe dankbaarheid in my hart omdat die Heilige Gees my van my sonde en verlorenheid oortuig het, en ook van die vergifnis en geregtigheid wat deur die kruisdood van Jesus Christus aan my gebied word. Hy het my deur die wedergeboorte in die liggaam van Christus gedoop toe ek sy vriendelike aanbod tot verlossing in die geloof aanvaar het. Ek is vol lof vir die Here se genadewerk deur die Heilige Gees, wat ook in al my ander behoeftes voorsien: Hy onttroon die vlees en vul my hart en wese; Hy beklee my met krag uit die hoogte om vir Jesus te kan getuig; Hy gee aan my verligte oë van die verstand om die Bybel te verstaan en alle dinge uit ‘n geestelike perspektief te kan beoordeel; en Hy skenk aan my sy vrede in die hart wanneer ek die regte besluite neem. Ek verbind myself tot gehoorsaamheid aan God wanneer Hy my deur sy Gees lei, en ook tot selfdissipline om nie dinge te doen waardeur ek die Heilige Gees kan bedroef nie. Mag ek daagliks só onder die beheer van die Gees lewe en wandel dat ek nooit die begeerlikheid van die vlees en die sinne sal volbring nie. Ek dank die Here vir hierdie lewe van oorwinning onder die leiding van sy Heilige Gees!

Vrae

1.    Noem en bespreek 5 beskrywende name van die Heilige Gees.

2.    Waarvan oortuig die Heilige Gees ons?

3.    Wat is die rol van die Gees in die werk wat ons vir die Here moet doen?

4.    Wat is die funksie van die Heilige Gees in Bybelse profesieë?

5.    Waar in die NT word melding gemaak van die feit dat die Gees van ewigheid af bestaan?

 

4. Die Woord van God

Die woord “Bybel” is van die Griekse woord Biblia afgelei, wat Boeke beteken. Die Bybel bestaan uit ‘n Ou Testament met 39 boeke en ‘n Nuwe Testament met 27 boeke – saam 66 boeke. Hierdie boeke is in verskillende tye en op baie verskillende plekke geskryf, maar deur die beskikking van God se Gees is hulle bymekaar gebring en vorm ‘n eenheid. In die Bybel self word na hierdie boeke as die “heilige Skrifte” verwys (2 Tim. 3:15). Dit is God se Woord, omdat al die skrywers dit onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf het (2 Pet. 1:21).

Ons leef in ‘n tyd van groot verval. Alle evangeliese Christene moet hulleself opnuut tot die handhawing en eerbiediging van die Bybel as God se Woord verbind. Die Woord van die Here is ‘n kosbare skat wat aan ons gegee is. Dit is dinamies en lewend, en vervul ‘n verskeidenheid geestelike behoeftes in ons lewe. Die Woord het, volgens sy eie uitsprake, die volgende duidelike kenmerke en unieke eienskappe:

Dit is ‘n openbaring van God en sy werke

Die Bybel is nie mense se woorde nie, maar God se Woord. Hierin word die Drie-enige God geopenbaar, die oorsprong van die mens en die natuurlike skepping, die ellende en geestelike doodsheid van die mens as gevolg van die sondeval, die teenwoordigheid en planne van ‘n vyandige koninkryk onder die leiding van Satan, God se reddende genade deur Jesus Christus se kruisdood en opstanding, God se oordele oor die sondaars wat sy uitnodiging tot redding verwerp, die wederkoms van Christus en die openbaring van sy koninkryk, asook God se toekomstige raadsplan met die mens in die nuwe hemel en op die nuwe aarde. ‘n Groot deel van die Bybel is op die geestelike groei en toerusting van diegene toegespits wat hulle tot God bekeer het en wat Hom te midde van al die goddelose mense en valse leerstellings wil dien (2 Tim. 3:16-17). Die Bybel is nie menslike versinsels oor God nie, maar ‘n boek wat deur God self “ingegee” is (2 Tim. 3:16; 2 Pet. 1:21).. Die goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel soos dit in die oorspronklike tale geskryf is, kan nie weerspreek word nie en word onder meer deur die merkwaardige vervulling van Bybelse profesieë bevestig. Die openbaring van Jesus as God die Seun staan ook vas, en is ver bo alle teologiese redenasies en opinies verhewe.

Dit is aan ‘n Persoon gekoppel

Alle beloftes van God in die Bybel moet herlei word na ‘n Persoon, die Here Jesus Christus. Hy is die vleesgeworde Woord (Joh. 1:1,4,14). Die gesproke en geskrewe Woord van God getuig van die Verlosser, Jesus Christus, daarom staan dit in so ‘n noue verband met Hom. In Hom is elke belofte in die Bybel ja en amen omdat Hy deur sy kruisdood die prys vir die vervulling daarvan betaal het (2 Kor. 1:20; Ef. 1:7). Weens die noue assosiasie tussen Christus en die Woord kan ons Hom nie volkome liefhê as ons die bestudering van sy Woord afskeep nie (Joh. 14:23).

Dit het skeppingskrag

Die Woord van God het skeppingskrag (2 Pet. 3:5). Dit herskep ook verlore mense (Rom. 1:16). Alle ware gelowiges weet van die krag wat daar in die Woord is. ‘n Gelowige Romeinse owerste het vir Jesus gesê: “Spreek net ‘n woord, en my kneg sal gesond word” (Matt. 8:8).

Dit is gelouterd en suiwer

Die foutloosheid en volmaaktheid van die Woord word verbind met die feit dat dit absoluut suiwer en gelouter is. Dit is geheel en al beproef as God se onveranderlike en betroubare Woord (Ps. 119:140; Ps. 12:7). Dit is ‘n betroubare woord dat Jesus Christus in die wêreld gekom het om sondaars te red (1 Tim. 1:15).

Dit is soos ‘n vuur en ‘n hamer

Die Woord is soos ‘n verterende vuur en ‘n hamer wat verbrysel (Jer. 23:29). Dit kan die hardste hart sag maak en elke muur van weerstand afbreek indien ons net met ‘n oop en ontvanklike gemoed daarna sou luister. Baie mense verwerp egter dit wat hulle hoor en verhard hulle harte vir die Woord (Heb. 3:7-8). Op dié manier verbeur hulle die Here se reddende genade (Matt. 23:37).

Dit red sondaars se siele

Ons moet hierdie Woord met sagmoedigheid ontvang, omdat die boodskap daarvan ons siele kan red (Jak. 1:21; 1 Pet. 1:23). Die Here Jesus het sy dissipels intensief onderrig en hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan wat van Hom getuig (Luk. 24:44-45; Joh. 5:37-40). Indien hulle die Woord verwerp, sal hulle in hul sondes sterwe (Joh. 8:24). Jesus het hulle verwyt omdat sy Woord geen ingang by hulle gevind het nie (Joh. 8:37). Die belangrikste rede hiervoor was die teologiese vooroordele van hulle leiers, wat die volk mislei en sodoende die koninkryk van die hemel vir hulle toegesluit het (Matt. 23:13).

Dit is gees en lewe

Die woorde van Christus is gees en is lewe (Joh. 6:63). Ná ons wedergeboorte moet ons onsself ook daagliks met hierdie Woord voed, sodat ons geestelik kan opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus (Ef. 4:13-14; 1 Tim. 4:6; 1 Pet. 2:2). Hierdie geestelike voedsel is noodsaaklik (Luk. 4:4). Bid om die vervulling met die Heilige Gees, want net Hy kan jou leer en in die volle waarheid van die Woord van God lei (Joh. 14:26; 16:13; 1 Kor. 2:10).

Dit is ‘n tweesnydende swaard

Die Woord is soos ‘n tweesnydende swaard wat indring tot in ons diepste wese waar dit die gedagtes en houdings van ons harte openbaar (Heb. 4:12). Dit wys aan ons watter gedagtes vleeslik en watter geestelik is.

Dit is ‘n vaste rigsnoer vir ons lewe

Dit rig ons voetstappe weg van die pad van sonde af (Jos. 1:7; Ps. 119:101,133). Deur die beloftes in die Bybel in die geloof te aanvaar, bêre ons die Woord van God in ons harte sodat ons teen Hom nie sal sondig nie (Ps. 119:11). Almal wat nie in Christus en sy Woord veranker is nie, se lewens is op sand gebou. Hulle sal sekerlik tot ‘n val kom en vir ewig beskaamd staan wanneer die storms van God se oordele oor die sondaars hulle tref (Matt. 7:24-27).

Dit verlig ons lewe

Alle Christene moet die lig van God se Woord in die wêreld laat skyn sodat sondaars tot bekering kan kom (Hand. 26:18). Elke ongeredde mens is in die duisternis van sonde vasgevang, en moet deur die wedergeboorte uit die duisternis van Satan na die Here se wonderbare lig oorkom. In die lig van God se Woord besef ons ons sondigheid en behoefte aan verlossing (Ef. 5:14).

Dit verskaf inligting oor die toekoms

‘n Belangrike deel van die Woord van God is profesieë wat lig werp op die toekoms. Paulus sê ons moenie die profesieë verag nie (1 Thess. 5:20). Daar word ‘n spesiale seën aan ons belowe as ons die profetiese Woord bestudeer en ter harte neem (Op. 1:3). Die sekerheid van ons hoop in Christus word hierdeur bevestig, en ons kry ook inligting oor die toekomstige strategieë wat Satan gaan volg in sy poging om Christene te mislei en te vervolg.

Dit keer nie leeg tot God terug nie

Die Woord van die Here strek óf tot die redding en geestelike opbouing van mense, óf tot hulle veroordeling weens ongeloof. Dit sal dus nie leeg tot God terugkeer nie (Jes. 55:10-11). Die Woord van God sal in alle opsigte volbring word (Op. 17:17) – vir gelowiges én ongelowiges (Num. 23:19). Met sy volmaakte voorkennis weet God wat in die toekoms gaan gebeur, daarom kon Hy vooraf vir elke behoefte voorsiening maak en ook ‘n behoorlike straf vir die sondaars aankondig (Op. 20:15). Die Here het nie behae in die ondergang van die goddelose nie, maar eerder daarin dat hy hom bekeer (Jes. 55:6-7; 1 Tim. 2:3-4). Dit is waarom die uitnodiging tot bekering aan alle nasies verkondig word (Hand. 17:30-31). In die lig hiervan moet ons die Woord van die lewe vashou (Fil. 2:16).

Dit hou vir ewig stand

“Die Woord van die Here bly tot in ewigheid” (Matt. 24:35; 1 Pet. 1:25). Dit bly altyd van krag, raak nooit irrelevant nie en sal selfs ná die huidige hemel en aarde nog steeds voortbestaan. Alles daarvan sal vervul word. Saam met die psalmis kan ons ook die ewigdurendheid van die Here, sy Woord en sy goedertierenheid besing (Ps. 19:9-10; 29:10; 37:18; 44:9; 73:26; 92:9; 111:3; 119:93,160; 135:13).

Buite-Bybelse openbarings

Spreek die Here deur sy Woord tot jou, of wag jy dalk dat Hy op ander maniere, buite sy Woord om, met jou moet praat? Oswald Chambers (My Utmost for His Highest) beklemtoon dié feit só: “Jesus sê: ‘Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe’ (Joh. 6:63). Dit is die manier waarop God met ons praat – nie deur drome en visioene nie, maar deur woorde. Wanneer ons tot God nader om met Hom te kommunikeer, vind dit deur die eenvoudige manier van woorde plaas.”

Ons kan onsself van baie dwalings vrywaar as ons die vaste beginsel van Sola Scriptura (net die Woord) eerbiedig. Selfs al is ons onder die versoeking om waarde aan drome en visioene te heg, mag ons dit steeds nie as ’n openbaring van God se wil oorvertel nie. Ons het net een duidelike opdrag wat God se wil betref: “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig” (2 Tim. 4:2). Die Here het reeds sy volle raad in die Bybel aan ons geopenbaar (Hand. 20:27). Mense wat daarop aanspraak maak dat die Here nuwe openbarings aan hulle gemaak het, ontken daardeur dat die Here dit wat Hy aan ons wou openbaar, reeds in sy Woord laat beskryf het. Rig jou voetstappe nét volgens die Woord! (Ps. 119:133).

Persoonlike toewyding

Ek aanvaar die Bybel as die geïnspireerde en foutlose Woord van God. Dit is ‘n kosbare geskenk uit die hemel, omdat God Homself hierdeur aan die mensdom openbaar. In die Heilige Skrif is nie net die belofte van sondevergifnis en die ewige lewe nie, maar ook voorskrifte oor hoe om die nuwe lewe in Christus op te bou, te versterk, in stand te hou en tot sy volle ontplooiing te laat kom. Die Here wil my daardeur volkome maak, vir elke goeie werk volkome toegerus. Mag Hy my bewaar van onkunde oor sy Woord, wat lewend en kragtig is, sodat ek nooit aan die volgende verwyt skuldig sal wees nie: “Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt. 22:29). Mag die woord van Christus ryklik in my woon (Kol. 3:16; Rom. 10:8-9) sodat ek waarlik in sy liefde gewortel en gegrond kan wees (Ef. 3:17). “Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u Woord kan bewaar” (Ps. 119:101).

Vrae

1.    Verduidelik of die Bybel die woorde van mense of die Woord van God is.

2.    Wat is die verband tussen Jesus Christus en die Woord?

3.    Verduidelik die Bybel se rol as ‘n tweesnydende swaard.

4.    Hoe staan die Bybel in verband met ons redding?

5.    Moet ons na buite-Bybelse openbarings van God se wil soek?

 

5. Satan en sy Ryk

Die koninkryk van die duisternis is ‘n werklikheid waarvan elke mens kennis moet neem. Satan en sy demone, die gevalle engele wat weens hulle rebellie uit die hemel gewerp is, is in ‘n hewige stryd teen God en sy koninkryk gewikkel, want hulle streef na verering en mag.

Dit is belangrik om te let hoedat Satan progressief in die Bybel geopenbaar word, want dit het na ‘n hele paar beskrywende name van hom aanleiding gegee. Hierdie name is ‘n verdere aanduiding van sy motiewe, werkswyse en bose karakter. Satan en sy demone werk uit mistiese sfere, uit die onderwêreld (Luk. 8:31) of uit die lug bokant die aarde (Ef. 6:12), en verkies om ter wille van groter aanvaarbaarheid hulle ware identiteit te verberg. Aanvanklik het hulle die identiteit van verskeie afgode, en selfs voorouergeeste, aangeneem om te verseker dat mense hulle onwetend sou aanbid en dien deur aan hulle te offer. Hierdie gebruik het deur die eeue heen groot inslag gevind, en in Nuwe Testamentiese tye is Christene ernstig gewaarsku om niks met afgodediens te doen te hê nie omdat die duiwel agter dit sit (1 Kor. 10:19-21).

In die OT het die heidene ‘n groot aantal Baäls, Astartes en ook ander afgode aanbid (Rigt. 2:11-13; 1 Sam. 12:10), en Israel is dikwels verlei om hieraan mee te doen. Die afgodediens is ook saam met okkultiese aktiwiteite soos spiritisme, waarsêery, goëlery en towery beoefen, wat alles werke van die duisternis is waarmee die duiwel mense mislei. Israel is ernstig teen hierdie dinge gewaarsku (Deut. 18:10-14). Sterrewiggelary word ook saam met ander okkultiese aktiwiteite verbied (Jes. 47:12-14).

Daar is in die OT ook begrippe wat meer regstreeks met die duiwel en sy demone in verband staan, en selfs voorbeelde van openlike satanisme. Die Hebreeuse woord sa-ir beteken duiwel en word in Levitikus 17:7 en 2 Kronieke 11:15 as veldduiwel vertaal. Die King James-Bybel vertaal dit as devil. Sa-ir kan ook as ’n harige bokram vertaal word. In satanistekringe word die duiwel as ‘n swart bok of ‘n menslike wese met die kop van ‘n bok uitgebeeld. In sommige voorstellings is hy ‘n afskuwelike kreatuur wat menslike én dierlike trekke het, maar altyd met bokhorings op sy kop. Die OT gebruik ook die woord sjed vir duiwel (vgl. Deut. 32:17). In Psalm 106:37-38 word ‘n antieke vorm van satanisme beskryf waarin mense hulle kinders aan die duiwels geoffer het. In hierdie geval word afgode en duiwels met mekaar gelykgestel.

As ‘n baie duidelike en regstreekse openbaring van die Bose kom sy naam, Satan, net op enkele plekke in die OT voor. Dit beteken Teëstander of Vyand en dui daarop dat hy die groot teëstander, of vyand, van God en van die gelowiges is (1 Kron. 21:1; Sag. 3:1). Tesame hiermee is daar ook twee beskrywende name van hom, naamlik aanhitser en aanklaer.

In die NT word beide die name Satan en duiwel gebruik. Duiwel is van die Griekse woord diabolos afgelei, wat lasteraar beteken. Ander name wat vir die duiwel in die NT gebruik word, is die Bose (Matt. 13:19), Mammon, die geldgod (Luk. 16:13), die engel van die lig (2 Kor. 11:14), die verleier (Op. 12:9), die vader van die leuens (Joh. 8:44), Apóllion, die vernietiger (Op. 9:11), Beëlsebul, die god van die vlieë (Matt. 12:24), Bélial, die nuttelose (2 Kor. 6:15), die aanklaer (Op. 12:10), die mensemoordenaar (Joh. 8:44), die owerste van die mag van die lug (Ef. 2:2), die owerste van hierdie wêreld (Joh. 12:31), die versoeker (1 Thess. 3:5), die slang (Op. 12:9), die draak (Op. 12:9), die brullende leeu (1 Pet. 5:8) en die god van hierdie wêreld (2 Kor. 4:4).

Satan is die hoof van die koninkryk van die duisternis met baie bose geeste, of duiwels, onder hom. Sedert die sondeval beheer en manipuleer hy ook die ongeredde mense wat geestelik in sy mag is. Uit hierdie bose mag verlos die Here ons (Kol. 1:13). Die duiwel probeer alles moontlik om die beheer oor God se skepping oor te neem en dit te verwoes. Hy probeer ook voorkom dat die beeld van God in mense herstel word deur hulle geestelik te verblind en van hulle slawe van die sonde te maak. Sy einddoel is om in die plek van God deur alle mense vereer, aanbid en gedien te word (Op. 13:2,4). Hy wil die Antichris in die plek van Christus in ‘n posisie van heerskappy op aarde plaas. In die plek van die Heilige Gees se werk probeer hy om mense deur verleidende geeste te mislei en te laat dwaal. Ons het die wapenrusting van God nodig sodat ons teen die liste van die duiwel staande kan bly, omdat hy en sy demone wêreldheersers in hierdie bedeling is (Ef. 6:11-12).

Die geestelike magsposisie wat Satan op aarde verkry het, is die gevolg van die sondeval. Alle mense word met ‘n sonde-geneigde natuur gebore en rebelleer saam met die duiwel teen God. Hulle is geestelik dood en moreel verdorwe (Rom. 3:10-18). Selfs ná die koms van Jesus Christus verkies die meeste van hulle die duisternis bó die lig omdat hulle werke boos is (Joh. 3:19). Dit is die rede waarom die duiwel die owerste en ook die god van hierdie gevalle, bose wêreld genoem word (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4). Johannes sê dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Sy invloed is dus baie groot. Satan gebruik ‘n verskeidenheid metodes om die mensdom geestelik te mislei, waaronder die volgende:

Valse profete. In sy mees verbloemde vorm val Satan die kerk van Christus aan deur dit met die bemiddeling van valse profete wat hulleself as gesante van Christus voordoen, binne te dring (2 Kor. 11:13-15; vgl. Matt. 7:15 en 1 Joh. 4:1). Hulle saai verwarring en maak mense van Christus afvallig (2 Kor. 11:2-4) sodat hulle in geestelike duisternis sal wandel.

Valse godsdienste. Op ‘n meer openlike wyse word mense deur valse gelowe mislei om die afgode te aanbid wat in werklikheid demone is (1 Kor. 10:20). Die aanhangers van dié gelowe weet nie dat hulle met duiwels besig is wat hulleself agter die maskers van valse gode verskuil nie. Satan verblind sodoende die mense se sinne sodat hulle nie die ware God deur Jesus Christus wil aanbid nie (2 Kor. 4:4).

Okkultiese magte. ‘n Verdere werkswyse van Satan is deur okkultiese, bonatuurlike magte. Hy koppel dit steeds nie regstreeks aan sy naam nie, sodat mense makliker mislei kan word om daarby betrokke te raak. Deur aktiwiteite soos towery, spiritisme, astrologie, meditasie, fortuinvertellery, astrale projeksie, buitesintuiglike waarneming en waarsêery word Satan se misleidingskrag bemark en eksperimenteer mense goedsmoeds daarmee.

Satanisme. Die regstreekse openbaring van Satan kan, weens die inherente afstootlikheid van die idee, net aan hoogs misleide en geestelik totaal vervalle mense gedoen word. In die verlede was dit tot klein groepies beperk, maar tans neem dit geweldig in omvang toe. Onder hierdie mense openbaar hy homself en sy demone in al hulle afskuwelikheid en bloeddorstigheid, en dring op regstreekse aanbidding aan. In die verdrukking sal dit algemeen wees (Op. 9:20; 13:4).

Hoewel Satan aan die kruis deur die Here Jesus oorwin is, is hy nog glad nie in ‘n put gebind en uit die stryd uitgeskakel nie. Sy werke kan deur Jesus Christus in ons lewe verbreek word (1 Joh. 3:8), en ons kan deur die krag van die Heilige Gees teen die Bose se versoekings en aanvegtinge oorwin (Ef. 6:11). Ons móét egter waaksaam bly en die wapens van die lig aangord (Rom. 13:12). Die duiwel sal eers by die wederkoms van Christus van sy magsposisie as die owerste oor ‘n gevalle wêreld ontneem en in ‘n put gebind word (Op. 20:2-3). Tot dan sal die stryd voortduur.

Strategieë van Satan

Daar is verskillende strategieë wat Satan volg om mense te verlei en in sy mag te kry:

Teëstander. In die eerste en belangrikste opsig van die stryd word die duiwel as die Christen se teëstander beskryf, wat sy ondergang of skade op alle lewensterreine soek (1 Pet. 5: 8-9). Hy wil jou lewe, jou gesondheid, jou eiendom, jou huwelik en alles wat jy het verwoes in ‘n poging om jou tot moedeloosheid en onverantwoordelike dade te dryf. Hy skep oral wanorde (Jak. 3:15-16).

Verleier. Satan is aktief besig om mense tot morele sondes te verlei. Die vleeslike hartstogte en begeerlikhede van die ou natuur word vir hierdie doel uitgebuit. Ons moet hierteen waak (Matt. 26:41), die hulp van die Here soek (Heb. 2:18; 4:15-16) en die ou natuur aflê (Ef. 4:22-24) sodat Satan se bondgenoot in ons lewe (die vlees) kan sterf (Rom. 6:6, 8:13).

Misleier. ‘n Verdere gedaante waarin die Satan teen gelowiges veg, is dié van misleier. Dit het met godsdienstige misleiding en bedrog te doen. Hy buit mense se onkunde uit en dis allerlei godsdienstige leuens aan hulle op om hulle op ‘n dwaalspoor te bring. Geestelike verval is die gevolg hiervan (Matt. 24:4-5,24; 2 Kor. 11:13-15; 1 Tim. 4:1; 2 Pet. 2:1-2).

Berower. Satan wil die Christene beroof deur hulle geestelik én materieel te verarm (Joh. 10:10). Hy wil jou laat terugval en van jou kroon in die diens van die Here ontroof (Op. 3:11; 2 Joh. v. 8). Esau het homself laat beroof, en ons word hierteen gewaarsku (Heb. 12:15-17). Christene wat terugval, verloor ‘n onskatbare erfenis in hulle lewe, en moet so gou as moontlik hulle gebroke verhouding met die Here herstel. Hy vergeef menigvuldiglik (Jes. 55:7) en sal jou nie donker aankyk as jy van jou dwaalweë af na Hom toe terugkom nie (Jer. 3:12).

Aanklaer. Satan tree ook as aanklaer op in die geestelike oorlog wat hy teen Christene voer (Op. 12:10). Hy kla Christene by die troon van God aan nadat hy hulle suksesvol verlei of mislei het. Die Here Jesus kom egter tot ons verdediging as ons nie in die sonde bly nie, maar dit dadelik bely en aflê (1 Joh. 2:1-2). Satan kla Christene ook by mekaar aan om onmin en tweespalt te stig (Kol. 3:13). Moenie in sy hand speel nie. Ons moet wél die valse profete teëstaan, maar in liefde en verdraagsaamheid met die ware broeders saamleef en mekaar ondersteun (Gal. 6:1-2).

Persoonlike toewyding

Ek verbind myself daartoe om vir die duiwel geen plek in my lewe te gee nie (Ef. 4:27) en die volle wapenrusting van God aan te trek sodat ek teen sy liste staande kan bly (Ef. 6:10-18). Wanneer hy my aanval, versoek of probeer beroof, sal ek myself in die gebed aan God onderwerp en die duiwel teëstaan (Jak. 4:7). Wanneer ek skuiling by die Oorwinnaar neem, sal die sielevyand van my af wegvlug. Ek dank die Here dat Hy my elke dag van die Bose bewaar (Matt. 6:13). Ek besef die erns van my stryd teen die sonde, die wêreld en die duiwel, maar ek besef ook dat daar oorvloedige genade is om my in hierdie stryd staande te hou.

Vrae

1.    Hoe het die duiwel homself in die OT geopenbaar?

2.    Noem en verduidelik vyf beskrywende name van die duiwel in die NT.

3.    Hoe maak Satan van valse godsdienste gebruik om sy doel te bereik?

4.    Watter vier metodes of instellings gebruik Satan om die mensdom te mislei?

5.    Noem en bespreek die vyf strategieë wat Satan in sy ondermyningswerk gebruik.

 

6. Sonde

Een van die sentrale temas in die Bybel is sonde – dit sluit die oorsprong en aard van sonde in, asook die gevolge daarvan en die oplossing vir die sonde-probleem. Dit is vir elkeen nodig om die aard en omvang van sy sondes te ken.

Sonde is:

Die oortreding van God se wette – Dan. 9:5; Rom. 5:13; Jak. 2:9; 1 Joh. 3:4.

Ongeregtigheid – Ex. 20:5, 34:7; Num. 14:18; Deut. 5:9; 1 Kon. 8:47; Jes. 1:4; 13:11; 53:6; 59:12; Jer. 30:14.

Dwalings weens swakheid en onkunde – Lev. 4:2,13,22,27; Heb. 5:2.

Owerspel en hoerery – Lev. 20:10; 1 Kor. 5:11; 6:10; Gal. 5:19; Ef. 5:3; Kol. 3:5.

Homoseksuele en lesbiese verhoudings – Lev. 18:22; 20:13; Rom. 1:26-28; 1 Kor. 6:10.

Betrokkenheid by okkultiese aktiwiteite – Lev. 18:21; 20:27; Deut. 18:9-14; 1 Kor. 10:7,14,19-20; Op. 2:20.

Geldgierigheid – Matt. 13:22; 19:23-24; Luk. 12:15; 1 Tim. 6:7-10; 2 Tim. 3:2; Op. 3:17.

Dronkenskap en ander vorms van verslawing – Spr. 20:1; 23:20,29-36; Jes. 5:11,22; 28:7; Rom. 13:13; 1 Kor. 5:11; 6:10; Gal. 5:21; Ef. 5:18; 2 Pet. 2:19.

Pligsversuim – Matt. 23:3; Luk. 6:46-49; Joh. 13:17; 15:22; Jak. 4:17.

Elke daad wat deur die gewete veroordeel word – Luk. 12:47; Joh. 9:41; 15:22; Rom. 14:14; 1 Kor. 8:7.

Elke daad wat nie in die geloof geskied nie – Rom. 14:23.

Alle gedagtes van die onweergebore hart – Gen. 6:5; 8:21; Spr. 6:14; 15:26; Jes. 59:7; Jer. 17:9; 18:12; Eseg. 11:2.

Die oorsprong en woonplek van sonde:

Die duiwel is die oorsaak van sonde en die vader van alle sondaars – Joh. 8:44; 1 Joh. 3:8.

Sonde het deur Adam in die wêreld gekom – Gen. 3:6-12; Rom. 5:12,19; 1 Tim. 2:14.

Elke mens is in sonde ontvang en gebore – Gen. 8:21; Job. 15:14; 25:4; Ps. 51:7; 58:4; Jes. 48:8; Joh. 3:6.

Sonde kom uit die hart – Ps. 95:10; Spr. 23:33; Matt. 15:19; Mark. 7:21-23; Heb. 3:10.

Elke mens is ‘n sondaar – 1 Kon. 8:46; 2 Kron. 6:36; Ps. 14:1-3; 53:2-4; 106:6; Spr. 20:9; Pred. 7:20; Jes. 64:6; Rom. 3:10,12, 23; 5:12; Gal. 3:22; Jak. 3:2; 1 Joh. 1:8; 5:19.

Hy wat sê dat hy geen sonde het nie, is ‘n leuenaar – 1 Joh. 1:8. Só ‘n mens maak ook vir God tot ‘n leuenaar – 1 Joh. 1:10.

Jesus Christus alleen was sonder sonde – Joh. 8:46; 2 Kor. 5:21; Heb. 4:15; 7:26; 1 Pet. 2:22; 1 Joh. 3:5.

Sonde word genoem:

Weerspannigheid teen God – Jes. 1:28; 59:13; 65:2; Klaagl. 3:42; Dan. 9:5; Titus 1:16.

‘n Gruwel vir die Here – Spr. 15:9; Jer. 44:4.

Die vrug van begeerlikheid – Jak. 1:15.

Onreinheid – Lev. 15:31; 16:19; Esra 9:11; Eseg. 24:13; 36:17,25,29; Sag. 13:1; Matt. 15:18-20; Mark. 7:20-23; 2 Kor. 7:1; 1 Thess. 4:7; Jak. 1:27; 2 Pet. 2:20.

Die werke van die duisternis – Jes. 29:15; Rom. 13:12; Ef. 5:11.

Die werke van die duiwel – Joh. 8:41,44; 1 Joh. 3:8.

Die werke van die vlees – Gal. 5:19-21.

Die begeerlikheid van die wêreld – 1 Joh. 2:15-16; 5:19; Rom. 12:2; Jak. 4:4.

Dooie werke – Heb. 6:1; 9:14.

Die angel van die dood – 1 Kor. 15:56.

Om in sonde te lewe beteken:

Om na die vlees te lewe – Rom. 7:5; 8:1,5; 2 Kor. 10:2; Gal. 5:13; 2 Pet. 2:10.

Om die begeerlikhede van die vlees te gehoorsaam – Rom. 1:24; 13:14; Gal. 5:16; Ef. 2:3; Kol. 3:5-7; 1 Thess. 4:5; 1 Pet. 1:14; 4:2-3; 2 Pet. 2:10; 3:3; Judas v. 16.

Om in geestelike duisternis te wees – Spr. 2:13; Jes. 9:1; Matt. 4:16; Luk. 1:79; 11:34; Hand. 26:18; Rom. 1:21; Ef. 5:8; 1 Joh. 1:6; 2:11.

Situasies vir die pleeg van sonde

Nasionale sondes (Spr. 14:34). Nasionale sondes word gepleeg wanneer ‘n land sonde in sy grondwet en ander beleidsdokumente verskans deur erkenning en beskerming daaraan te verleen. Dit kan gedoen word deur die oppergesag van God in die grondwet te ontken, Jesus as Verlosser, Koning en Seun van God te verwerp, met een of meer valse godsdienste te assosieer, homoseksualisme te erken en te aanvaar, prostitusie en dobbelary te wettig, multigodsdienstige onderwys aan te bied, humanisme te bevorder en Christelike beginsels op verskillende maniere te ondermyn. Israel en sy regeringsleiers in Jerusalem het nasionale sondes teenoor die Messias gepleeg en ‘n duur prys daarvoor betaal (Luk. 19:41-44).

Sondes deur regeringsleiers (2 Sam. 24:10,17). Sommige outokratiese hoofde van regerings neem besluite of doen dinge wat in stryd met die Here se wil is, en is dan alleen daarvoor verantwoordelik. Slegs indien hulle sondige beleid en voorbeeld deur feitlik die hele volk nagevolg word, word dit as ‘n nasionale sonde gereken waarvoor die hele volk sal boet.

Persoonlike sondes (Ps. 51:5). Sondige dade word meesal deur individue gepleeg, en plaas hulle in ‘n posisie van veroordeling teenoor die Here (Spr. 28:13; Rom. 6:23).

Geheime sondes (Ps. 19:13; 90:8). Baie mense dink verkeerdelik dat geheime sondes, asook bose gedagtes wat niemand van weet nie, nie aan hulle toegereken sal word nie. Elke gedagte van ons moet egter gevange geneem word tot gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor. 10:5).

Openlike sondes (1 Tim. 5:24). Sondes wat openlik en met openbare instemming gepleeg word, is ewe verkeerd en strafbaar in die oë van die Here. Die samelewing en sy gebruike is nie ons norm vir die bepaling van sonde en ongeregtigheid nie, maar die Woord van die Here.

Skaamtelose sondes (Jes. 3:9). Verharde sondaars doen hulle bose werke in die openbaar sonder om hulleself in die minste daaroor te skaam.

Die sondes van die jeug (Ps. 25:7). Dit moet ook bely word.

Subtiele versoekings

Die mees subtiele versoekings tot sonde is dié wat oënskynlik die naaste aan die doel van God vir ons lewe is, en dit is om ‘n godgelykvormige lewe te lei. Lucifer se groot sonde was: “Ek wil my met die Allerhoogste gelykstel!” (Jes. 14:14). Hy het die mens versoek om dieselfde te doen, en gesê: “Julle sal soos God wees” (Gen. 3:5). Die Antichris sal ook dieselfde sonde doen, want “hy sal in die tempel van God as God sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4). Dit sal hy doen omdat hy in God se plek deur mense op aarde aanbid wil word.

Dit is sonde om jouself met God gelyk te stel sodat ander mense jou as ‘n god kan vereer. Die mens kan nooit die natuurlike attribute van God naboots of kry nie, bv. sy skeppingskrag, sy kennis van alle verborge dinge, sy reg om sonde te vergewe, sy outoriteit oor lewe en dood en sy absolute volmaaktheid. Ons word slegs beveel om aan God se morele attribute gelykvormig te word sodat sy heiligheid, geregtigheid, liefde, en ook sy vergewensgesindheid in ons gesien kan word. Ons moet altyd nederig bly en onthou dat ons net diensknegte en dissipels van die Here Jesus is. Ons is diep van Hom afhanklik, omdat ons in ons eie reg niks is nie (Joh. 15:5).

Ons het ‘n groot verantwoordelikheid om die godsdienstige leuens van die duiwel en sy valse profete te kan onderskei en te verwerp (1 Joh. 4:1). Dit sluit ook die “mooi” evangelieboodskappe in waarin al die Here Jesus se seëninge vir ons genoem word, sonder om God se oordeel oor die sonde te noem, en ook die volle betekenis van Christus se kruisdood en sy bloed wat Hy vir ons gestort het. Daar is baie van hierdie “vroom” boodskappe in omloop vandag, waarin mense nie uitdruklik tot sonde-oortuiging gelei word nie, en ook nie met die Verlosser se versoeningswerk aan die kruis gekonfronteer word nie. Hy het gekom om alle mense van hulle sondes te reinig (Heb. 1:3), maar dan moet hulle eers onder die volle indruk daarvan gebring word. Wanneer hierdie basiese feite oor sonde verswyg word, word die evangelie vervals.

Jesus Christus:

Het gekom om die sonde weg te neem – Joh. 1:29; Hand. 5:31; Heb. 9:26; 1 Joh. 3:5.

Het gekom om sondaars te red – Matt. 1:21; 9:13, 18:11; Mark. 2:17; Luk. 5:32; 1 Tim. 1:15.

Het Homself vir die sonde oorgegee – Gal. 1:4; Titus 2:14.

Het vir die sonde gesterf – Jes. 53:8; Rom. 6:10; 1 Kor. 15:3; 1 Pet. 3:18.

Het vir die sondaars gesterf – Rom. 5:6,8; Heb. 2:9; 9:15; 1 Pet. 3:18.

Het self die sonde gedra – Jes. 53:4,11,12; 2 Kor. 5:21; 1 Pet. 2:24.

Het deur sy bloed vergifnis van sondes bewerk – Matt. 26:28; Ef. 1:7; Kol. 1:14.

Het ons deur sy bloed van sonde gereinig – Titus 2:14; Heb. 1:3; 9:14; 1 Joh. 1:7; Op. 1:5.

Die genoegsaamheid van genade om sonde te vergewe

Genade tot vergifnis en verlossing is meer oorvloedig as die sonde – Rom. 5:20.

Sal ons in die sonde bly sodat die genade meer oorvloedig kan word? Nee! – Rom. 6:1-2,15.

Daar is vergifnis vir almal – Jes. 1:18; Jer. 33:8; Matt. 12:31-32; Mark. 3:28; Luk. 12:10.

Daar is geen offer vir die opsetlike verloëning, belastering en verwerping van Christus ná bekering nie – Heb. 6:4-6; 10:26-31; 12:16-17.

Persoonlike toewyding

Ek prys die Here vir die voorsiening wat Hy aan die kruis van Gólgota vir die verlossing van sonde gemaak het, en ook dat die mag van die sonde gebreek kan word sodat dit nie meer oor my hoef te heers nie. Die oue mens wat deur sondige begeerlikhede ten gronde gaan, kán afgelê en oorwin word (Ef. 4:22). Ek dank Hom vir die voortgesette reiniging deur die bloed van die Lam. Ek besef dat ek as mens weer kan sondig, maar ek bid vir ‘n nougesette wandel met die Here en ‘n sensitiwiteit vir sonde sodat ek nie die slagoffer van verleiding sal word nie. Ek neem opnuut die opdrag ter harte om weerstand te bied teen die sonde (Heb. 12:4). Mag elke gedagte in my tot gehoorsaamheid aan Christus gevange geneem word, sodat die oordenking van my hart én die woorde van my mond vir Hom welgevallig sal wees (Ps. 19:15).

Vrae

1.    Beskryf die aard van sonde m.b.t. God se wet.

2.    Verduidelik die sonde van homoseksualisme.

3.    Waar in die Bybel word voorvader-aanbidding, towery en afgodediens verbied?

4.    Noem voorbeelde van nasionale sondes.

5. Hoe kan ons van ons sonde gereinig word?

 

7. Verlossing

Daar is ‘n duidelike pad wat die Here met ‘n sondaar loop om sy siel te red, hom vir diens toe te rus en ook vir die ewige lewe in die hemel voor te berei.

1. Roeping

Die Here gee die eerste tree op die pad van die sondaar se redding (Rom. 5:8), want Hy roep sondaars tot bekering op (Jes. 1:18). Vir hierdie doel het die Seun van God na die aarde gekom, om verlore mense na Hom toe te roep en sy vergifnis en rus aan hulle te bied (Matt. 11:28). Hierdie roepstem is net vir hulle wat erken dat hulle ‘n geestelike probleem het (Matt. 9:13).

Dit is belangrik om die roepstem van die Here duidelik te hoor, want dit sal die aard van jou reaksie bepaal. Jy moet die omvang van jou probleem van verlorenheid deeglik besef, naamlik dat jy sonder Jesus Christus op ‘n ramp in jou lewe afstuur. Daar is geen ruimte vir selfregverdiging wat jou donker geestelike toestand betref nie, want daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie (Rom. 3:10). Jy moet kennis oor sonde opdoen, en veral van jou eie sondes wat ‘n skeidsmuur tussen jou en die Here is (Jes. 59:2). Daar moet geen twyfel by jou bestaan dat die ewige doodstraf oor sondaars uitgespreek is nie (Rom. 6:23). Alle ongereddes moet hulle op die voltrekking van dié vonnis voorberei, want as hulle nie tot bekering kom nie, wag die ewige verdoemenis op hulle (Matt. 25:41).

In die roeping van die Here word nie slegs jou probleem geïdentifiseer nie, maar ook die oplossing daarvoor. Die feit dat God jou liefhet en deur die kruisdood van die Here Jesus dit vir jou moontlik gemaak het om sondevergifnis en die ewige lewe te verkry, is die goeie nuus wat saam met die roeping verkondig word (2 Kor. 5:21; 1 Pet. 3:18; 1 Joh. 4:10). Die roeping van God moet só tot die sondaar kom dat hy ook die volle implikasies van ‘n kosteberekening sal besef. Jesus het vir Nikodémus duidelik laat verstaan dat teologiese kennis en ‘n mooi lewe nie genoeg is om die koninkryk van God te beërf nie – hy móét weergebore word (Joh. 3:3). Hiervoor is dit nodig om alle bewuste sondes te bely en te laat staan sodat jy volkome nuut gemaak kan word.

Jesus het vir die ryk jongman gesê dat hy eers met sy sonde van materialisme moes breek (Luk. 18:22). Vir dié jongman, wat andersins baie godsdienstig was, was dit moeilik om van sy boesemsonde af te sien, en hy het bedroef van die Here af weggegaan. Baie ander mense vind dit ook moeilik om tot bekering te kom, omdat hulle nie werklik met al hulle sondes wil breek nie. Dit is nie maklik om deur die nou poort in te gaan nie (Luk. 13:24). Dit is egter ‘n wonderlike ondervinding en iets wat jy moet aanhou soek totdat jy dit vind (Luk. 11:9).

2. Berou

‘n Sondaar wat onder die oortuiging van die Heilige Gees is, het groot berou oor sy sondige lewe. Hy regverdig nie meer homself nie en is diep onder die indruk van sy sonde en verwerplikheid. Hy voel aangekla en veroordeeld oor alles wat hy gedoen het. Sy skuldgevoelens dryf hom dan na die Here Jesus – dié Een wat so ‘n vernederende dood vir die redding van sondaars gesterf het. Droefheid oor sondes lei na bekering en redding (2 Kor. 7:10). Toe Petrus die Here Jesus verloën het, het hy buite toe gehardloop en bitterlik geween (Matt. 26:75). Dit is ware berou oor sonde, en hieruit vloei dié soort belydenis wat die voorwaarde vir vergifnis is. Jy moet erken dat jy ‘n mislukking van jou lewe gemaak het, en jou vertroue in die Here alleen stel om jou te red.

3. Bekering

Wanneer die berouvolle sondaar besluit om sy saak met die Here reg te maak, dan draai hy om op sy lewenspad wat weg van die Here af gelei het, en nader die troon van genade met belydenis van sonde (Spr. 28:13; 1 Joh. 1:8-9). Sowel sondaars wat tot bekering kom as teruggevalle Christene wat weer deur sonde verstrik geraak het, moet ten volle bereid wees om hulle rug op die ou lewe te draai en belydenis van hulle oortredings te doen (Ps. 51:5-6,9; Luk. 15:18; 18:13). Wanneer ons onsself tot Jesus Christus bekeer, moet ons glo:

  • dat Hy die waaragtige God is wat die Redder van die wêreld is (1 Joh. 5:20; Luk. 19:10);
  • dat ons slegs op grond van sy kruisdood met God versoen kan word (Kol. 1:20);
  • dat ons deur bekering en sondebelydenis tot Hom moet nader (Matt. 9:13; Hand. 17:30);
  • dat die Here volkome in staat is om die ou lewe te laat verbygaan en alles nuut te maak (2 Kor. 5:17); en
  • dat Hy ons koop met sy bloed wanneer Hy ons red, en dat ons dus sy eiendom word om enige tyd en op enige plek deur Hom gebruik te kan word (1 Kor. 6: 19-20; 1 Pet. 1:18-19).

4. Regverdigmaking

Die sondaar se redding deur die Here sluit twee aspekte in, nl. die uitdelging van sy sondeskuld (regverdigmaking), en die gawe van die ewige lewe wat aan hom geskenk word (wedergeboorte). Dié twee sake staan in ‘n noue verband met mekaar, want die gevalle mens is geestelik dood as gevolg van sy sondes en misdade – hy moet vergewe én lewend gemaak word. Die grondslag vir die vergifnis van ‘n mens se sonde is die kruisdood van die Here Jesus, waardeur Hy die doodstraf vir ons sonde betaal en só sy groot genade en liefde vir ‘n verloregaande mensdom bewys het (Rom. 3:23-25; Jes. 53:5; Ef. 1:7). Elkeen van ons het ‘n skuldbrief, of klagstaat, van sonde op grond waarvan die duiwel ons aankla en op ons lewe aanspraak maak. Hierdie klagstaat word deur die Here Jesus se versoeningswerk aan die kruis uitgewis (Kol. 2:13-14).

5. Wedergeboorte

Die konsep van wedergeboorte is van die allergrootste belang in die redding van sondaars. Hierdeur sê die Here dat ons geestelik dood was weens ons sonde, en deur Hom lewend gemaak moet word; en dat ons ou lewe tot in sy kern verdorwe is en glad nie gerehabiliteer of verbeter kan word nie. Ons moet deur die wedergeboorte nuut gemaak word om deelgenote van Christus se koninkryk te kan word (Joh. 3:3). Tydens wedergeboorte word ons deur die Heilige Gees in die liggaam van Christus gedoop (1 Kor. 12:13). Ons word deel van sy liggaam. Verder dui die wedergeboorte op die opstandingslewe van die Here Jesus (1 Pet. 1:3; Titus 3:5-7).

Die eerste stap wat ‘n weergebore persoon moet neem, is om van sy redding te getuig. Volgens Romeine 10:9-10 móét ek met my mond die Here Jesus bely as ek waarlik gered is. Die eerste belydenis met my mond is teenoor Christus self wanneer ek Hom as my Verlosser aanneem. Daarna getuig ek teenoor ander mense van die feit dat Hy my siel uit genade gered het.

Hierdie getuienis word ook uitgedra deurdat ek myself as ‘n gelowige laat doop – m.a.w. ná my bekering, soos deur Christus beveel (Mark. 16:15-16; Matt. 28:19). ‘n Getuienis van geloof in die Here Jesus as jou Redder is ‘n duidelike voorvereiste vir die doop. Die hofdienaar het vir Filippus gevra: “Wat verhinder my om gedoop te word?” Die antwoord was: “As u glo met u hele hart, is dit geoorloof.” Die hofdienaar se antwoord was: “Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is” (Hand. 8:36-37). Daarna is hy gedoop. Paulus en ander bekeerlinge is ook kort ná hulle redding gedoop (Hand. 9:18; 10:47-48; 16:31-33). Die waterdoop het hulle nie gered nie, maar van hulle redding (geestelike doop) getuig. Uit die sendingopdrag in Mattheus 28:19 is dit baie duidelik dat redding deur doop gevolg word, en daarna deur intensiewe onderrig in die Woord van die Here, met die oog daarop dat die bekeerlinge self dissipels kan word wat ander na die Here toe kan lei. Dit is nodig om al die stappe op die heilsweg noukeurig te volg as ons die volle seën van die Here oor ons lewe wil geniet.

6. Heiligmaking

Aan die ware kerk van Jesus Christus, m.a.w. diegene wat reeds wedergebore is, kom die duidelike opdrag in die Bybel om hulleself te verloën, met die Heilige Gees vervul te word, rein en ingetoë te leef en vrug te dra wat by die bekering pas. Die eerste opdrag op die pad van heiligmaking en dissipelskap is selfverloëning en die opneem van die kruis (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Volgens Lukas 14:27-33 staan die kruis van selfverloëning in verband met die kosteberekening vir dissipelskap. Jy moet ‘n keuse maak of jy die hartstogte en begeerlikhede van die vlees (die ou, wêreldsgesinde natuur met al sy neigings) wil bevredig, en of jy werklik bereid is om van daardie dinge af te sien en die Here met jou hele hart en alles wat jy het, te dien. As jy eerlik in jou oorgawe is, sal die Here Jesus jou met sy Gees vervul (Ef. 5:18). Deur die krag van die Heilige Gees is dit moontlik om ‘n godvrugtige lewe te lei en die wil van God te doen.

7. Verheerliking

Die laaste stap op die heilsweg is verheerliking. Dit sal by die eerste opstanding plaasvind, wanneer die ontslape én lewende Christene met onsterflike opstandingsliggame beklee word (1 Kor. 15:51-52). Die volle besonderhede van ons verheerlikte posisie in die hemel is nog nie aan ons geopenbaar nie, maar ons weet dat wat ons onverganklike opstandingsliggame betref, ons aan Christus gelyk sal wees. Hy sal steeds die Hoof van die gemeente wees, maar ons sal saam met Homom HomH wees en in sy onuitspreeklike heerlikheid deel (Fil. 3:20-21; 1 Joh. 3:2-3). In afwagting op ons verheerliking moet ons nóú vir ons hemelse bestaan voorberei word, en in alle opsigte rein en heilig leef. Vir ons toekomstige verheerliking is dit van groot belang hoedanig ons geestelike lewe op aarde is. Behalwe dat ons wedergebore moet wees, word ons ook opgeroep om Geesvervulde lewens te lei en die Here te dien. Vir ons arbeid in die Here sal ons genadeloon by die regterstoel van Christus ontvang (2 Kor. 5:10).

Persoonlike toewyding

My hart is vol dankbaarheid omdat die Here my siel uit genade gered en my naam in die boek van die lewe geskryf het. Ek is in verwondering oor die hoë roeping van God in Christus Jesus. Redding is net die begin van ‘n pad van heiligmaking en diensbaarheid in die koninkryk van die hemel, en hieraan wy ek myself hart en siel. Mag my lewe ‘n gereinigde kanaal wees waardeur die lig van Jesus Christus in ‘n donker wêreld kan skyn. Die hoofdoel van my lewe is om ‘n getroue dienskneg van die Here Jesus te wees, wat nooit sal ophou om sy lof te verkondig nie. Wat ‘n vreugde om te weet dat as ek die pad van die Here bewandel, Hy met my sal wees al die dae, tot aan die voleinding van die wêreld (Matt. 28: 20). Ek hoef nooit een oomblik sonder Hom te lewe nie.

Vrae

1.    Wat is die straf wat vir alle sondaars op aarde wag, en wie sal dit voltrek?

2.    Wat is die roeping van God aan sondaars?

3.    Verduidelik die noodsaaklikheid van berou oor sonde.

4.    Wat behels bekering alles?

5.    Wat beteken wedergeboorte?

6.    Waarom moet mense heilig leef?

7.    Wat is die verheerliking wat die Here aan ons beloof het, en wanneer sal dit gebeur?

 

8. Heiligmaking

Die regverdigmaking wat op grond van bekering plaasvind, moet na 'n duidelike ervaring van heiligmaking in alle Christene se lewens lei. Die behoefte hieraan word duidelik in die Bybel gestel. Wanneer dié behoefte goed begryp word, sal die oplossing van selfverloëning en vervulling met die Heilige Gees erken en met oorgawe deur meer Christene gesoek word.

Heiligmaking as 'n tweede genadewerk ná regverdigmaking is 'n noodsaaklike ondervinding in 'n Christen se geestelike lewe. 'n Gebrek hieraan lei na 'n lewe waarin die ou natuur – hoewel in beginsel afgelê – nie in die praktyk gekruisig is nie en die persoon dus ook nie met die Heilige Gees vervul is nie. Die gevolg hiervan is dat die werke van die ou, vleeslike natuur dominant in sy lewe bly. Dit manifesteer in gesindhede soos oorheersing deur die eie-ek, geestelike arrogansie en meerderwaardigheid, materialisme, wêreldgesindheid, 'n kritiese en veroordelende gees teenoor ander Christene, geestelike onvrugbaarheid, verkeerde prioriteite en 'n lewe van val en opstaan. Die volgende is sommige van die duidelikste stellings oor die behoefte aan heiligmaking, waarin daar uit verskillende oogpunte op dieselfde probleem en oplossing gefokus word:

Die eie-ek in die dissipels se lewens. Die dissipels het 'n duidelike behoefte aan die vervulling met die Heilige Gees getoon omdat hulle so vol van hulleself was (Matt. 20:27-28; Luk. 22:24-26). Hulle het verkeerdelik gemeen dat hulle uit eie krag getrou aan Jesus kon bly (Matt. 26:33-35).

Die gebrek aan geestelike vrug. 'n Verdere aanduiding van 'n behoefte aan heiligmaking is die gebrek aan geestelike vrugte in 'n persoon se lewe. Hy is soos 'n boom wat wél leef, maar geen vrug dra nie en dus nie aan sy roeping voldoen nie (Matt. 3:8; Joh. 15:2).

Die behoefte aan die krag van die Heilige Gees. Die Here Jesus het die dissipels beveel om nie met die opdrag van evangelisasie te begin voordat hulle met die instaatstellende krag van die Heilige Gees vervul is nie (Luk. 24:49). Dit sou hulle vir hul taak bekwaam maak (Hand. 1:8).

Hernude vervullings. Ná ‘n eerste ondervinding van vervulling met die Heilige Gees, ontstaan daar later, as gevolg van krisisse in jou lewe, die behoefte aan nuwe vervullings sodat jy opnuut deur die Here aangeraak, versterk, bemoedig en toegerus kan word (Hand. 4:29-31; 13:50-52).

Oorwinning oor versoekings. Ons het die opdrag om altyd te waak en te bid. Sodoende sal ons voortdurend in Christus bly en Hy in ons. Ons word voor die uitdaging gestel om toegewyd te leef en oor versoekings en swakhede te oorwin (Matt. 26:41).

'n Nuwe ingesteldheid oor sonde en geregtigheid. Heiligmaking vereis 'n duidelike ingesteldheid téén alle sonde en vír God se geregtigheid. (Rom. 6:11,22). Ons moet voortdurend sorg dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie (Rom. 12:1-2).

Die verlammende gevolge van vleeslikheid. 'n Vleeslike ingesteldheid het 'n verlammende effek op Christene en lê enige moontlikheid van geestelike groei aan bande (1 Kor. 3:1-3; Gal. 5:17). Sonder selfkruisiging sal mense nie vanself uit hierdie toestand van vleeslikheid groei nie.

Die hindernis van die oue mens. Die rede waarom Christene nie vanself opgroei tot geestelike volwassenheid en oorwinning oor sonde nie, is omdat die struikelblok van die oue mens (die ou, sonde-geneigde natuur) eers uit die weg geruim moet word (Ef. 4:22-24).

Die voortgesette doding van die vlees. Die vlees, of ou natuur van die mens, onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie (Rom. 8:7). Daar is net een raad met hom, en dit is dat hy gekruisig moet word (Rom. 8:13; Gal. 6:14).

Geestelike onvolwassenheid. Die gebrek aan geestelike volwassenheid onder Christene beklemtoon die behoefte aan heiligmaking en groei baie sterk. Hiersonder is 'n persoon onbruikbaar en het nie geestelike onderskeidingsvermoë nie (Ef. 4:13-14; Heb. 5:12–6:1).

Die behoefte aan 'n tweede genadewerk. Die tweede genadewerk staan in verband met 'n heilige lewe, en volg op die eerste genadewerk van inisiële reiniging en wedergeboorte. Jesus Christus het Homself vir beide hierdie genadewerkinge aan ons oorgegee (Ef. 5:25-27).

Die Geesbeheerde lewe. Dit word ‘n werklikheid wanneer ons ‘n oorgawe maak waarin ons van alle oorheersing deur sonde en selfgesentreerdheid in ons lewe afstand doen en onsself aan die volle heerskappy van die Heilige Gees oorgee (Gal. 5:16).

‘n Strewe na volmaaktheid. Ons is nie volmaak nie, maar in 'n proses van vervolmaking. Hiervoor is 'n bewustelike aflegging van die ou lewe nodig, asook 'n proses waarin ons toenemend aan die opstandingslewe van Jesus Christus gelykvormig word (Fil 3:7-12).

Die Christus-gelykvormige lewe. Ons het die opdrag om te wandel soos Christus gewandel het (1 Joh. 2:6; 1 Pet. 2:21). Hieraan kan ons slegs uitvoering gee indien die Heilige Gees ons met die goddelike hoedanighede van die Here Jesus beklee (Rom. 13:14).

Die uitleef van hemelse beginsels. In die lig van ons hemelse burgerskap moet ons heilig en afgesonderd in hierdie verdorwe wêreld leef (1 Thess. 2:10-12; Heb. 12:14).Ons moet voorberei word met die oog op ‘n persoonlike ontmoeting met die Here Jesus (1 Joh. 3:3).

'n Lewe van aflê en beklee. Ná bekering moet ons deur die heiligmaking voortgaan om al die oorblywende aspekte van die ou lewe af te lê en ons toenemend met die nuwe lewe van Jesus Christus te beklee. Dit is ‘n duidelike opdrag (Kol. 3:8-14).

Die behoefte aan volkome heiligmaking. Ná sy inisiële heiligmaking by redding het 'n Christen beslis ook nodig om met die Heilige Gees vervul te word en sodoende deur die Here volkome heilig gemaak te word (1 Thess. 5:23-24). Ons moet onberispelik wees (1 Thess. 3:13).

Die versaking van wêreldse begeerlikhede. Die genade van die Here wat tydens bekering aan ons gebied word, lei en verbind ons daartoe om ná ons redding 'n heilige en vroom lewe in afwagting op die Here Jesus se wederkoms te lei (Titus 2:11-13).

Die motivering vir 'n heilige lewenswandel. Die motivering vir heiligheid is geleë in die karakter en wil van God self, wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet. 1:15; 1 Thess. 4:3,7-8). Ons moet alle boosheid en vleeslikheid aflê (1 Pet. 2:1-2).

Die struikelblok van die wêreld. Om met die wêreld en sy sondige lewenswyse en instellings kompromie te maak, kom op geestelike ontrouheid teenoor die Here neer (Jak. 4:4). Die wêreld moet verloën word sodat ons net in die Here Jesus alleen sal roem (Gal. 6:14).

Die reël van oorwinning oor sonde. Die grondreël van die Christen se lewe in hierdie bose wêreld is dat hy aan die Here getrou moet bly deur nie te sondig nie. As hy wél sondig, is hy geestelik besoedel. Dit kan weer vergewe word, maar moet liewer voorkom word (1 Joh. 2:1).

Die werke wat die bewys van 'n ware geloof is. 'n Oorgawe tot heiligmaking bring ons in die regte geestelike ingesteldheid om die vrug van die Gees in ons lewens te laat gedy. Hierdie werke is die bewys van 'n ware geloof en dus nie ‘n opsionele ekstra net vir sommige Christene nie (Jak. 2:14,26).

Toenemende heiligmaking. Heiligmaking is 'n dinamiese proses wat ook in sy omvang en intensiteit moet toeneem. Ons moet voortdurend groei in die genade en kennis van Jesus Christus (2 Pet. 3:18) en dus ook in die volkomenheid van ons heiligmaking (Op. 22:11-12).

Volharding in die suiwer leer. Heiligmaking vereis dat 'n persoon in die gesonde leer van die Bybel sal volhard en die kompromiemakers en afvalliges in liefde teregwys en vermaan (2 Tim. 4:2-5). Die afvalliges en vleeslikes moet hulle verootmoedig (Jak. 5:19-20).

Aanhoudende vermaning teen verval. Met leerstellige verval gaan daar ook geloofsverval en morele verval gepaard. Dit kan aan die verleiding van Satan toegeskryf word, waaraan sommige mense toegee. Hierteen moet gewaak word (Heb. 3:12-13; Gal 6:1; 1 Kor. 10:12).

Oorwinning oor menslike swakhede. Geesvervulde kinders van die Here wat die ou natuur afgelê het, het nog steeds liggame wat met swakhede bevange is. Hulle het beperkte krag en kennis, en moet die Heilige Gees hiervoor vertrou (Ef. 6:10; Jak. 1:5; Rom. 8:26; Heb. 4:15-16).

‘n Hoë roeping op aarde én in die hemel

Ons moet deur ‘n proses van heiligmaking op die ontmoeting en vereniging met die hemelse Bruidegom voorberei word. Dit is belangrik dat die kerk van Christus ‘n duidelike roepingsbewustheid hier op aarde én ook ‘n duidelike bestemmingsbewustheid in die hemel moet hê. Paulus sê dat ons ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus het (Fil. 3:14). In die huidige bedeling is ons geroep om getuies van Jesus te wees in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê. Ons is dus ambassadeurs vir Christus in ‘n vreemde koninkryk. As geroepe heiliges moet ons waardige verteenwoordigers van die koninkryk van die hemel wees (Fil. 2:15).

Dwarsdeur ons aardse lewe en die uitvoering van die taak wat ons hier het, moet ons deur die vooruitsig op ons hemelse bestemming tot heiligmaking gemotiveer word. Dit moet aan ons moed en deursettingsvermoë gee terwyl ons as vreemdelinge ons opdragte in hierdie goddelose wêreld uitvoer (Fil. 3:20-21). Ons moet onsself reinig in voorbereiding daarop om in die hemel in noue assosiasie met die Here Jesus te leef. Ons sal nét so ‘n opstandingsliggaam soos Hy hê en in sy volmaakte, heilige teenwoordigheid verkeer (1 Joh. 3:2-3).

Persoonlike toewyding

Watter onuitspreeklike genade dat die Heilige Gees uitgestort is om my van sonde te oortuig en te wederbaar, en my ook te vervul en te bekragtig sodat ek ‘n doeltreffende getuie vir die Here in hierdie donker wêreld kan wees. Ek besef dat die vlees gekruisig moet word, en ook voortdurend gekruisig moet bly, sodat hy nie weer beheer oor my lewe verkry nie. Ek besef ook dat ek as Geesvervulde Christen nog menslike beperkings en swakhede het, maar ek dank die Here dat sy Gees my swakhede te hulp snel. Ek is so bevoorreg dat die Heilige Gees my met die Here Jesus wil beklee – met die nuwe mens wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Hiervoor wag ek op Hom, en lê my hele lewe op die altaar sodat dit vir God geheilig en diensbaar gemaak kan word.

Vrae

1.    Verduidelik die tweede genadewerk ná bekering.

2.    Kan ek sonde en versoekings oorwin as ek nie met die Heilige Gees vervul is nie?

3.    Wat is die groot struikelblok in Christene se lewens vir vervulling met die Heilige Gees?

4.    In watter opsig staan heiligmaking in verband met diensbaarheid aan die Here en geestelike volwassenheid?

5.    Hoe berei die Here ons vir die hemel voor en hoe kan ons waardig voor Hom verskyn?

 

 

9. Gebed

Gebed is een van die belangrikste Christelike aktiwiteite wat daar is. Hierdeur beoefen jy ‘n intieme wandel met die Here en lê die grondslag vir sukses in ander geestelike aktiwiteite. Dit plaas jou ook op oorwinningsgrond in die stryd teen die Bose, omdat jy jouself in die geloof aan die beskerming en sorg van die Groot Oorwinnaar, Jesus Christus, toevertrou. Dr. Andrew Murray het gesê: “Ek is daar seker van dat ons nooit ten volle sal weet wat die gebed bedoel is om te wees, solank as wat ons dit hoofsaaklik beskou as ‘n middel om ons eie Christelike lewe te onderhou nie. As ons leer om dit te beskou as die vernaamste deel van die werk wat aan ons toevertrou is, die grond en sterkte vir al ons werk, dan sal ons sien dat daar niks is wat ons so moet bestudeer en beoefen as die kuns om reg te kan bid nie.”

Die versoek van die dissipels was: “Here, leer ons bid” (Luk. 11:1). Die kuns van ware gebed en voorbidding kan ons alleen by die Groot Voorbidder, Jesus Christus, leer. Dit is ‘n leerskool waarin ons ook in genade en kennis moet toeneem. Hoewel die gebed in sy beginstadium so eenvoudig is dat die kleinste kind kan bid, is dit terselfdertyd ook die hoogste vorm van toewyding en diens aan die Here waartoe die mens geroep word.

Priesterlike werk

As ‘n heilige priesterdom moet ons leer wat dit is om volhardend by die genadetroon van God vir die redding van siele te pleit (Luk. 18:1). ‘n Priester leef net vir die eer van God en die redding van mense. Sy gebed gaan dus nie om eiebelang nie. Ons moet in dié opsig van die Hoëpriester leer. Soos wat Christus Homself vir ons opgeoffer het, moet ons ook in ons gebedslewe onsself vir die geestelike belange van andere opoffer.

Die Heilige Gees en gebed

Leiding vir gebed kom van die Heilige Gees af (Rom. 8:26). Ons moet onsself gedurig aan die leiding van die Heilige Gees oorgee om ons gedagtes, gebede en ons hele lewe te oorheers. Hiersonder sal ons nie die vurige gebed van ‘n regverdige kan bid, wat groot krag het nie (Jak. 5:16).

Duidelikheid van gebedsversoeke

Gebedsversoeke moet spesifiek en duidelik omskrewe wees. Die Here Jesus se vraag is: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” (Mark. 10:36). Ons gebede moet dus nie vaag en doelloos wees nie. Moenie net in die algemeen bid dat die Here jou sonde moet vergewe nie, maar noem jou sondes en ongeregtighede by die naam (1 Joh. 1:9). Ook in jou taak van voorbidding vir andere moet jy daarteen waak om ongeïdentifiseerde gebede vir die redding van siele te bid, asook versoeke dat die Here alle mense op aarde moet seën. Sulke gebede is op geen spesifieke land, gemeenskap, familie, indiwidu of probleem gerig nie, dus sal jy nie weet waar om vir die antwoord te kyk nie.

Binnekamergebede

Elke Christen móét ‘n persoonlike gebedsverhouding met die Here Jesus handhaaf. Sorg daarvoor dat daar tye en plekke is waar jy gereeld alleen met die Here praat (Matt. 6:6). Die persoonlike gebed is ‘n verborge geestelike kragbron in jou lewe. As dit ‘n gereelde instelling in jou lewe is, sal die Here Jesus jou in die openbaar vergeld. Wanneer jy tussen mense is en met versoekings en aanslae te kampe het, sal Hy jou beloon deur aan jou krag tot oorwinning te skenk. Jou vriende, familie en kollegas sal sien dat jy ‘n mate van selfbeheersing, kalmte, vertroue, vasberadenheid, opregtheid en beginselvastheid het wat net van die Here af kom.

Groepsgebede

‘n Besondere seën rus op gebedsbyeenkomste (Matt. 18:19-20). ‘n Kind van die Here het nie alleen ’n behoefte aan die verborge, eensame gebed nie, maar ook aan openbare gebede saam met ander. Ons word deur dieselfde Gees tot lede van een liggaam saamgebind, daarom moet ons ook as ‘n groep funksioneer en vir die verwesenliking van ‘n bepaalde doel saamwerk. Uit die teks hierbo is dit duidelik dat ons oor ‘n saak moet saamstem. Die geheim van gesamentlike gebed moet ontdek en beoefen word, naamlik dat almal in hulle gemoed sal saambid en saamstem terwyl een persoon aan die woord is. ‘n Biduur bestaan dus nie uit die opstapeling van ‘n aantal indiwiduele gebede nie, maar uit die onderlinge deelname aan één gebed.

Die sekerheid van gebedsverhoring

Die Here Jesus is self die waarborg vir gebede wat in sy Naam gebid word (Joh. 14:13; vgl. ook Joh. 16:23; Matt. 7:7-8; Mark. 11:24). Die Bybelse beloftes oor gebedsverhoring is voorwaardelik, en dit is in elkeen van ons se belang om ‘n studie van die voorwaardes te maak en daaraan te voldoen: Gebedsversoeke moet op die verheerliking van die Vader gerig wees (Joh. 14:13; Matt. 6:9-10). Dit moet in ooreenstemming met sy wil wees (1 Joh. 5:14; Rom. 8:27). Ons lewe en begeertes moet in die Here Jesus wees, en sy woorde in ons harte, sodat ons geen selfsugtige motiewe het nie (Joh. 15:7; Jak. 4:3). Gebede moet op ‘n lewe van reinheid en godsvrug gerig wees (1 Thess. 4:3, 7; Joh. 15:16). ‘n Heilige lewe is ‘n voorvereiste vir gebedsverhoring (1 Joh. 3:22). Ons móét andere vergewe as ons om die vergifnis van sonde tot die Vader bid (Mark. 11:25-26). Onvergewensgesindheid en bitterheid is ‘n groot struikelblok vir gebedsverhoring (Matt. 6:15). Ons moet in die geloof bid sonder om te twyfel (Heb. 11:6; Jak. 1:6-8). Dit is nodig dat elkeen van ons ‘n noue verhouding met die Here sal handhaaf, en sodoende sal verseker dat daar nie ‘n muur van sonde tussen ons en Hom opbou nie. Dit sal ons vrymoedigheid vir gebed ondermyn.

Gebedstemas

Die volgende is Bybelse voorskrifte oor gebedstemas:

Lofprysing. Prys die Here vir al sy grootheid en goedheid en guns. Verheerlik sy Naam en bring aan Hom die lof wat Hom toekom. Gebruik verse uit die Psalms, bv. Psalm 103, vir hierdie doel.

Danksegging. Sê vir die Here dankie vir alles wat Hy vir die redding van die gevalle mensdom, en ook vir jou persoonlik, gedoen het. Dank Hom vir al die wonderlike beloftes in sy Woord. Hy het belowe om jou nooit te begewe en jou nooit te verlaat nie, om nooit te laat vaar die werke van sy hande nie, om in elke behoefte van jou te voorsien na die rykdom van sy genade, en om met jou te wees tot aan die voleinding van die wêreld.

Die behoeftes van die heiliges. Bid vir voorsiening in die behoeftes van die heiliges (Ef. 6:18). Bid dat hulle beskerm sal word teen al die aanslae van Satan. Bid dat die Here aan hulle geopende deure vir die bediening van sy Woord sal gee, en groot vrymoedigheid om die verborgenheid van die evangelie aan 'n verloregaande wêreld te verkondig (Ef. 6:19).

Jou eie behoeftes. Maak jou behoeftes met danksegging vir die vervulling daarvan aan die Here bekend (Fil. 4:6). As jy gesondig het, bely dit voor die Here (Ps. 51:3-17).

Die redding van siele. Die redding van siele is die groot doel waarvoor die Here Jesus na die aarde toe gekom het (Luk. 19:10), daarom moet ons ernstig hiervoor bid. Bid ook dat die Here arbeiders sal uitstuur om die oes in te samel (Matt. 9:37-38).

Heiligmaking en herlewing. Heiligmaking is God se wil vir al sy kinders (1 Thess. 4:3; 1 Pet. 1:14-16). Maak dit 'n gebedsaak om 'n heilige, oorwinnende lewe te lei. Bid ook vir herlewing in teruggevalle kerke en gemeentes (Op. 2:4-5).

Genesing. Die Here Jesus wil ook ons liggaamlike ongesteldhede genees (Jak. 5:14). Ons leef egter in ‘n gebroke, verganklike wêreld waarin Christene ook siek word sonder dat dit altyd met ‘n sondige toestand verbind kan word. Soms word mense genees (Hand. 28:9) en soms nie (2 Kor. 12:7-10; 2 Tim. 4:20). Die Here kan mense regstreeks genees, maar dikwels gebruik Hy die mediese wetenskap vir hierdie doel. Ons moet berus by ons omstandighede as ons daaroor gebid het. Sommige mense wat nie genees is nie, is steeds kragtige getuies vir die Here.

Oorwinningskrag in die geestelike stryd. Bid vir oorwinning in die stryd teen die vlees, die wêreld, die duiwel en die sonde (Matt. 6:13; 26:41; Jak. 4:7).

Die regering. Bid vir die redding van jou regeringshoofde en hulle ondergeskiktes (1 Tim. 2:1-4). Hieruit is dit duidelik dat mens nie hoef te bid dat die Here 'n goddelose regering seën nie, maar dat hulle siele gered sal word, en dat die Here hulle daarvan sal weerhou om onleefbare toestande vir hulle onderdane in die land te skep. Die Here kán bose raad verydel en enige leier besluite laat neem wat in ooreenstemming met sy wil en die gebede van sy kinders is (Spr. 21:1).

Israel se redding en die vrede van Jerusalem. Bid vir die fisiese én geestelike herstel van Israel (Eseg. 36:22-27). Daar moet om die vrede van Jerusalem gebid word, omdat die vyand se aanvalle in die besonder op dié stad gerig is (Ps. 122:6; vgl. ook Jes. 62:6-7; Rom. 11:25-26).

Reën en materiële seëninge. Die Here gee reën (Jer. 14:22; Sag. 10:1), en weerhou dit ook indien 'n volk in goddeloosheid verval (Jer. 3:2-3). Wanneer daar dus om reën gebid word, moet dit met gebede van persoonlike, gemeentelike én nasionale verootmoediging gepaard gaan.

Die wederkoms en vrederyk. Dit moet die gebedsverlange van elke gelowige wees dat Jesus Christus spoedig sal kom om sy koninkryk van geregtigheid op aarde te openbaar (Matt. 6:10; Hand. 15:16-17; Op. 11:15). Jerusalem sal dan die hoofstad van die wêreld en Satan gebind wees (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:20-22; Op. 20:2-4).

Waarskuwing teen valse gebede

Ons word teen valse gebede gewaarsku wat met ‘n verkeerde motief van selfverryking gebid word (Jak. 4:3), asook heidense gebede met ‘n ydele herhaling van woorde (Matt. 6:7). Meditasie en die gebruik van mantras is ‘n heidense gebedsvorm wat vermy moet word. Hierdie “stil gebede” word soms “kontemplasie” genoem, maar bestaan uit ‘n meditatiewe inkeer na binne om die “god” binne-in jou te aanbid.

Persoonlike toewyding

Geloofd sy die Here dat ons Hom nie deur die bemiddeling van priesters hoef te dien en te aanbid nie, maar dat elkeen van ons in die gebed self tot die genadetroon kan toetree. Ek is dankbaar vir  hierdie nuwe en lewende weg wat die Here Jesus met sy kruisdood vir my ingewy het deur die geskeurde voorhangsel heen (Heb. 10:19-20). Dit is my voorneme om gereeld op hierdie weg toe te tree om my versugtinge en versoeke in gebed voor die Here se troon te noem, en ook die danksegging en lofprysing van my hart aan Hom te bring. Ek dank Hom dat ek by elke geleentheid kan bid in die Gees (Ef. 6:18), en dat Hy ‘n hoorder van gebed is wat in ‘n hoë mate beproef is (Ps. 46:2; 65:3). Hy nooi almal wat vermoeid en belas is, om na Hom toe te kom (Matt. 11:28) om verhoring, berusting en genade te kry om die goeie stryd van die geloof voort te sit (1 Tim. 6:12).

Vrae

1.    Verduidelik die noodsaaklikheid van gebed.

2.    Wat is binnekamergebede?

3.    Wat is die verband tussen God se wil en gebedsverhoring?

4.    Noem en bespreek vyf gebedstemas.

5.    Hoe moet daar vir regerings gebid word?

 

10. Dissipelskap

Dissipelskap gaan oor veel meer as net redding – dit gaan oor die opleiding en geestelike toerusting van gelowiges sodat hulle volwaardige dissipels kan word wat die Here Jesus dien en sy opdrag vir die evangelisering van die wêreld uitvoer. Hulle hooftaak is om ander mense na Christus toe te lei en ook van hulle dissipels te maak. Alle gelowiges word geroep om dissipels te word, en dan hulle samewerking te gee om van bekeerlinge uit al die volke dissipels te maak (Matt. 28:19).

Die oorgawe vir dissipelskap

Tydens die opleiding van sy dissipels het die Here Jesus die basiese vereistes vir dissipelskap baie duidelik aan hulle gestel (Luk. 9:23-26). In Luk. 9:23 is daar vier werkwoorde wat hierdie opdrag vervat: Die voornemende dissipel moet eers ‘n wilsbesluit neem om die Here Jesus te volg; daarna moet hy homself verloën en dan sy kruis opneem en vir Jesus volg.

Soos ook by redding (Op. 22:17), moet elke gelowige ‘n wilsbesluit neem of hy heiligmaking en dissipelskap in sy lewe begeer. Indien wel, dan is selfverloëning die volgende stap. Die begeerlikhede van die vlees en die wêreld moet afgelê word as jy die Here Jesus met jou hele hart wil volg. Daar is net een manier om dit te doen, en dit is om jouself ten volle aan die leiding van die Heilige Gees oor te gee en in die kruis van Christus te roem, deur wie die wêreld vir jou gekruisig is en jy vir die wêreld (Gal. 6:14). Die opneem van die kruis moet ‘n daaglikse toewyding en lewenswyse word. As ek dit nie meer doen nie, dan bevry ek as’t ware die vlees van sy gekruisigde posisie af, en sal hy stelselmatig weer homself in my lewe laat geld. Dit sou ‘n baie dwase ding wees om te doen, want dan kan daar geestelike veragtering in my lewe intree (Gal. 3:1,3). In die laaste deel van die teks sê die Here Jesus dat ons Hóm moet volg. Deur Bybelstudie en die aanvaarding van die Here se leiding deur omstandighede, sal jy voortgaan om die Here te volg en jou roeping te vervul. As jy in die wil van die Here is, sal jy teen geen probleem stuit nie. Die Here sal struikelblokke uit die weg ruim en jou paaie gelyk maak.

Die geestelike toerusting vir dissipelskap

Nadat die dissipels deur die Here geleer is en die voorwaardes vir dissipelskap aanvaar het, moes hulle ook met die Heilige Gees vervul word voordat hulle as getuies van Christus vir Hom kon begin werk (Luk. 24:45-49; Hand. 1:8). Dit is die deel wat die Here doen nadat die dissipels hulleself verootmoedig en die begeerlikhede van die vlees en die wêreld afgelê het. Die eerste dissipels het hierdie seën op Pinksterdag ontvang. Nadat hulle met die krag van die Heilige Gees toegerus is, het hulle met vrymoedigheid die evangelie begin verkondig. Die dag toe Paulus met die Heilige Gees vervul is, het hy “dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is” (Hand. 9:20). Die dissipels het dikwels daarna nuwe vervullings met die Heilige Gees gehad (Hand. 4:31; 13:52). Dit is ‘n lewe van diepe afhanklikheid van die Here (Joh. 15:5).

Voortgesette selfverloëning

Die dissipel se daaglikse lewe en bediening moet steeds in die teken van Christus se kruis wees. Dit vereis voortgesette selfverloëning sodat die vlees nie weer beheer oor sy lewe kry nie. Hy moet nie homself behaag nie, maar die belange van ander soek (Rom. 15:1). Hy moet verdraagsaam te midde van kritiek en teëstand wees en nie moedeloos raak nie (Heb. 12:3). Hy moet nie sy eie opinies verkondig nie, maar ‘n leerbare gees hê en buig voor die gesag van die Woord (Ps. 119:59). Selfverloëning vereis ook getroue diens aan die Here, en nie ‘n lewe wat op eiebelang en winsbejag ingestel is nie (Ps. 119:36).

Vervolging

Dissipels van die Here Jesus moet ook bereid wees om vervolging te verduur (Joh. 15:18-21). Ons is volgelinge van die lydende Messias wat deur die wêreld verwerp word, daarom haat die wêreld ons ook (Joh. 16:33). Die vroeë dissipels het geweldige vervolging verduur en mekaar bemoedig deur te sê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Hand. 14:22). Paulus sê dat dit “ter wille van Christus genadiglik aan ons gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly” (Fil. 1:29). Die ligte verdrukking, wat vir ‘n kort tydjie is, weeg nie op teen die ewige heerlikheid wat by die wederkoms aan ons geopenbaar sal word nie (2 Kor. 4:17). Wanneer Christus as Koning terugkom, sal ons in sy heerlikheid deel en saam met Hom as konings regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Dan sal die smarte en swaarkry verby wees (Op. 21:4).

Die verantwoordelikheid van dissipels

In dissipelskap is daar ‘n duidelike samewerking van twee kante af: die Here gee die krag, maar jy moet waardig voor Hom wandel en planne maak om die krag te gebruik. Dit sal nie sonder jou medewerking in werke omgesit word nie. Ons liggame moet aktief en doelbewustelik as werktuie van geregtigheid in die diens van die Here gestel word (Rom. 6:13). Neem die volgende opdragte in hierdie verband ter harte: Ons moet ons liggaam as ‘n heilige, afgesonderde offer in die diens van God stel (Rom. 12:1-2; 6:22) en vrugte dra wat by die bekering pas (Matt. 3:8). Ons is gestuurdes (Joh. 20:21) wat die Woord tydig en ontydig moet verkondig (2 Tim. 4:2).

In die uitvoering van hierdie en talle ander opdragte moet ons altyd onthou dat dit die krag van die Here is wat deur ons swak liggame werk. Die eer en die roem vir die oorwinning kom Hom alleen toe. Vir alles wat Paulus in ‘n lewe van diensbaarheid bereik het, het hy die eer aan die Here gegee wat hom daartoe in staat gestel het (1 Kor. 15:10). Hy het besef dat hy sonder die Here niks kon doen nie – dit is alles net genade. Nogtans moes hy as ‘n medewerker van God homself aktief in die diens van die Here beywer (1 Kor. 9:27).

Mag die Here aan elkeen van ons die genade verleen om te besef wat die hoë roeping van God in Christus Jesus is (Fil. 3:14). Hy wil ons nie alleen uit die duisternis tot sy wonderbare lig trek nie, maar ook van ons Geesvervulde dissipels van Hom maak – bruikbare werktuie in sy reddende regterhand. Is jy bereid om hiervoor bekwaam gemaak te word? Verootmoedig jou dan voor die Here en wag op Hom totdat Hy jou toegerus het met krag uit die hoogte.

Die voorregte van dissipels

  • Hulle word deur Jesus Christus erken en Hy assosieer ten nouste met hulle (Matt. 12:49-50).
  • Christus verlig hulle lewe sodat hulle nooit in die duisternis hoef te wandel nie (Joh. 8:12).
  • Hulle word deur die Heilige Gees in die hele waarheid van God se Woord gelei (Joh. 16:13).
  • Hulle word só met die liefde van Christus vervul dat die wêreld dit kan sien en glo dat hulle gestuurdes van die Here Jesus is (Joh. 13:34-35).
  • Hulle word deur die Vader geëer omdat hulle Christus dien en die belange van sy koninkryk soek (Joh. 12:26).

Mislukte dissipels

Wat gebeur met gelowiges wat nie aan die eise vir dissipelskap voldoen nie? Hulle diskwalifiseer hulleself as dissipels (Luk. 14:27). Iemand wat nog nie hierdie oorgawe gemaak het nie, is vol van homself, van sý planne en sý idees. Hy verkondig ook net sy eie oortuigings en bevorder die saak van sý kerk of organisasie, waarin die koninkryk van Christus nie noodwendig die eerste prioriteit is nie. Hy wil erkenning hê vir alles wat hy bereik, en blaas ‘n trompet voor hom uit om sy goeie dade bekend te maak (Matt. 6:2). Voordat hulle met die Heilige Gees vervul is, was die dissipels ook vol van hulleself en het gewonder wie van hulle die grootste in die koninkryk van God was (Matt. 20:25-28). Die vlees wil altyd voor in die ry staan en deur almal raakgesien word. As sy eer gekrenk word, is hy bitter ongelukkig daaroor. In sy hart verag en verwerp hy almal wat hóm nie wil eer en ophemel as iemand spesiaals nie.

Waarom is só ‘n persoon met ‘n ongekruisigde vleeslike natuur onbruikbaar in die diens van die Here? Omdat hy ‘n innerlike tweestryd het wat ware Christelike dienswerk onmoontlik maak (Gal. 5:17). Christene wat nog onder die heerskappy van die vlees is, soos dié in 1 Korinthiërs 3:1-3, is selfgesentreerd, vol twis, jaloersheid en tweedrag, en weens hulle geestelike onvolwassenheid nie bruikbaar as dissipels nie. Wanneer hulle wél die Woord verkondig, is dit nie in die betoning van Gees en krag nie, maar in oorredende woorde van menslike wysheid (1 Kor. 2:4). Dit is nutteloos, want dit oortuig mense nie van hulle sonde nie en streel net hulle gehoor (2 Tim. 4:3-4). Een van die metodes waardeur mense se gehoor gestreel word, is om die eise van die evangelie só af te water dat groot massas mense op ‘n maklike manier, sonder sondebelydenis en wedergeboorte, salig gespreek word. Die boodskap van die kruis word nie duidelik verkondig nie, so ook nie heiligmaking en die wederkoms nie.

Dit is ‘n algemene verskynsel vandag dat mense met vleeslike motiewe die Christendom misbruik om hulle eie doel in die lewe te bereik. Hulle wil hulleself verryk en aansien in die samelewing verkry, en poseer dan as groot geestelike leiers, of profete wat tekens en wonders doen. Die duiwel help sulke mense in hulle vleeslike veldtog omdat hulle duisende ander mislei, op ‘n syspoor plaas en selfs na die verderf sleep.

Tydens Jesus se aardse bediening het gelowiges om ander redes van ware dissipelskap af weggeskram. Dit was in daardie tyd nie ‘n populêre ding om jouself as ‘n Christen en volgeling van Jesus te bestempel nie. Messiaanse Jode is vervolg en selfs deur hulle ouers onterf. Hulle aansien en finansiële sekuriteit was op die spel, dus was die kosteberekening vir dissipelskap hoog (Luk. 9:24-25). Wat ook al ons omstandighede, daar is altyd 'n prys aan dissipelskap verbonde. Ek moet bereid wees om aansien en regte prys te gee en aan myself te sterf.

Persoonlike toewyding

Wat ‘n voorreg om ‘n dissipel vir Jesus Christus te kan wees! Hoewel dit ‘n moeilike pad is waarop ons moet skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag, is dit ‘n groot vreugde om vir ander tot seën te wees. As ons op hierdie pad volhard tot die einde toe, sal die beloning in die koninkryk van Christus wonderlik wees. Ek wy myself opnuut aan die hoë roeping van dissipelskap, en bid vir genade om elke dag my kruis op te neem waaraan ek vir die wêreld en die wêreld vir my gekruisig is, en met volharding die wedloop te loop wat voor my lê (Gal. 6:14; Heb. 12:1). Ek is nie in hierdie wêreld om myself te behaag nie, maar Hom wat my gestuur het (2 Tim. 2:4). Op die pad van wêreldevangelisasie waarop ons uitgestuur is, het ons die wonderlikste belofte van die Here Jesus se daaglikse teenwoordigheid (Matt. 28:20). Spoedig sal die groot oes van sy koninkryk ingesamel wees, dan sal ons onsself in elke geredde siel verbly.

Vrae

1.    Wat is die vereistes vir dissipels?

2.    Wat is die aard van dissipels se afhanklikheid van die Heilige Gees?

3.    Beskryf die rol van vervolging in die dissipels se lewe.

4.    Noem drie van die voorregte van dissipels.

5.    Wat is die kenmerke van mislukte dissipels?

6.    Hoe water hulle die eise van die evangelie af?

 

11. Die Gemeente

Die gemeente van Christus word as sy liggaam beskryf, waarvan elke weergebore Christen ‘n lid is (Rom. 12:4-5; 1 Kor. 12:12-13; Ef. 1:22-23, 2:16, 3:6, 4:12,16, 5:23; Kol. 1:18,24). Hierdie intieme verhouding met Jesus Christus spruit voort uit die feit dat die gemeente deur Hom gered is (Ef. 5:25-27), gekoop is met sy bloed (Hand. 20:28), geheilig is (Ef. 5:26-27), gegrondves is (Ef. 2:19-20), gebou word (Matt. 16:18), bemin word (Ef. 5:25) en aan Hom onderworpe is (Rom. 7:4).

Die gemeente van Christus word op die plaaslike vlak meesal deur klein gemeentetjies verteenwoordig wat hulle doelwitte nie deur krag of geweld bereik nie, maar deur die werking van God se Gees. Die ware gemeente moet teen menslike vervalsings en bondgenootskappe met die wêreld waak deur getrou aan sy roeping en opdrag te bly. Die volgende is die agt belangrike eienskappe van die gemeente. Christene moet hierdie kenmerke in hulle volste potensiaal en suiwerste vorm uitleef sodat die gemeente geestelik opgebou, siele gered, nuwe gemeentes gestig en dwalings deur onkundige mense en valse profete weerstaan kan word:

1. Die Uitgeroepenes

Die Nuwe Testamentiese term vir die gemeente, of kerk, van Christus is die ekklésia – dit beteken letterlik “die uitgeroepenes.” Dit is diegene wat uit die duisternis van sonde en verlorenheid uitgeroep is en oorgekom het tot die wonderbare lig van Christus (1 Pet. 2:9). Deur ‘n geestelike wedergeboorte het die Here van hulle nuwe mense gemaak (Joh. 3:3). Die ware gemeente van Christus bestaan dus slegs uit weergebore Christene. Hulle moet spontaan en openhartig van hulle veranderde lewens kan getuig, anders kwalifiseer hulle nie om lede van die gemeente van Christus genoem te word nie. Die toepassing van hierdie beginsel vir lidmaatskap blyk duidelik uit Handelinge 2:47 – net gereddes word by die gemeente van Christus gevoeg. ‘n Mens móét eers teenoor die Here Jesus jou sondes bely (1 Joh. 1:9) en jou geloof in Hom as Verlosser stel (Hand. 16:31) sodat Hy jou geestelik lewend kan maak (Joh. 5:24). Dán eers behoort jy aan Hom en is ‘n lid van sy liggaam, of gemeente, op aarde.

So baie mense doen nooit ‘n eerlike sondebelydenis nie en kom dus nie werklik tot bekering nie. Hulle sluit in hulle ongeredde toestand by Christelike gemeentes aan, maar uit ‘n Bybelse oogpunt behoort hulle nie aan die gemeente van Christus nie. Hulle is vormgodsdienstiges wat net ‘n gedaante van godsaligheid het (2 Tim. 3:5; Titus 1:16; Op. 3:1). Die Here sal hierdie vormgodsdienstiges eendag wegwys, al het hulle ook aan kerke behoort en selfs in die Naam van Jesus gepreek (Matt. 7:21-23). Groot verdeeldheid en onmin kan in gemeentes ontstaan as “valse broeders” (2 Kor. 11:26; Gal. 2:4) insluip en voorgee om gelowiges te wees, terwyl hulle in werklikheid totaal deur die sondige vlees oorheers word.

2. Tempel van die Heilige Gees

Die gemeente van Christus het die opdrag om heilige, Geesvervulde lewens te lei. Hulle moet die oue mens aflê en hulle met die nuwe mens beklee (Ef. 4:22-24; 1 Thess. 5:22-24). Lede van die gemeente van Christus moet begryp dat die Heilige Gees nie net uitgestort is om hulle van sonde te oortuig en te wederbaar nie – hulle is ook geroepe om ‘n tempel van die Heilige Gees te wees sodat hule God-verheerlikende lewens kan lei (1 Kor. 6:19-20). Die Heilige Gees wil hulle vervul sodat hulle oorwinnend oor sonde, versoekings en die vlees kan leef (Gal. 5:16), en ook diensbaar in die koninkryk van die hemel gemaak kan word (Hand. 1:8; Ef. 5:18).

3. Die Liggaam van Christus

Deur die wedergeboorte word ons in die liggaam van Christus gedoop (1 Kor. 12:13). Soos ‘n liggaam ‘n organiese eenheid is waarin die verskillende lede mekaar aanvul, is dit ook die geval met die liggaam van Christus (Rom. 12:4-8; 1 Kor. 12:12-31). Saam met ander lede kan jy jou talente en gawes op ‘n aanvullende wyse tot die uitbreiding van God se koninkryk aanwend (1 Pet. 4:10). Die plaaslike gemeente moet daarna streef om ‘n volwaardige weerspieëling en verteenwoordiger van die korporatiewe liggaam van Christus te wees. Beoefen jou taak en roeping slegs in die krag en onder leiding van die Heilige Gees omdat ons die Here nie deur die krag van die vlees kan behaag nie. Die outoriteit van jou gemeentelike roeping is net in Christus, en die Heilige Gees bekragtig jou om dit uit te voer. Jy staan op oorwinningsgrond wanneer jy jou roeping in diepe afhanklikheid van Hom alleen beoefen. Ons hoof is die Here Jesus wat ons roep, toerus, lei én uitstuur (Ef. 1:17-23).

4. Klein kuddetjie

God se koninkryk word deur die klein kuddetjie van sy gemeente geopenbaar (Luk. 12:32). Christus se volgelinge is soos ‘n kudde skape wat deur die Goeie Herder gelei en versorg word. Hulle is diep afhanklik van Hom om hulle na groen weivelde te lei, te beskerm en deur elke gevaarlike situasie te lei (Ps. 23:2-4). Die Herder ken sy skape, voorsien in hulle behoeftes en weet om hulle uit elke benoudheid te verlos – ook van die duiwel self (Matt. 6:13; Joh. 10:14-15). Die Opperherder het ook opsieners aangestel om verantwoordelikheid te neem met die versorging van sy kudde (Hand. 20:28).

5. ‘n Pilaar en grondslag van die waarheid

Die gemeente van die lewende God is “’n pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Tim. 3:15). Dit moet ‘n kenmerk van die gemeente van Christus wees dat dit die Bybelse leer oor die saligheid in stand hou sodat mense nie in dwalings verval nie. Die gemeente móét dus ‘n apologetiese, of verdedigende, bediening hê waarin die suiwer Christelike leer teen dwaallerings verdedig word. Daar rus ‘n verantwoordelikheid op die herder om toe te sien dat lidmate oor die sektes ingelig is en in staat is om dwalings in die lig van die waarheid van die Woord te kan weerlê (Judas 1:3-4). Die waarheid van die Woord het ‘n vrymakende krag (Joh. 8:32), en in die volle lig daarvan sal elke dwaling geopenbaar word.

6. Dissipels van Christus

Alle gemeentelede moet daarna streef om aan die standaard van dissipels van Christus te voldoen, want só alleen kan hulle waardige verteenwoordigers van God se koninkryk wees. Die Here Jesus het sy dissipels geroep (Matt. 4:19), onderrig (Matt. 28:19; Joh. 14:26), toegerus (Luk. 24:49; Hand. 1:8) én uitgestuur (Matt. 28:19; Luk. 10:3; Joh. 20:21). Die opdrag van dissipelskap maak van die gemeente van Christus ‘n aktiewe, uitwaarts-gerigte groep wat op die evangelisering van die nie-Christelike wêreld ingestel is. Oral waar groepe gelowiges tot stand kom, moet nuwe gemeentes gestig word – al is dit ook in die huise van Christene. By hulle byeenkomste moet gelowiges opgelei word om self ook dissipels te wees wat die Woord verder sal uitdra. Op hierdie manier word die koninkryk van Christus op aarde uitgebrei.

7. Die Bruid van die Lam

Die gemeente is die Bruid van die Lam. Deur ‘n proses van heiligmaking moet ons voorberei word om eendag op ‘n waardige wyse, sonder vlek of rimpel, voor die hemelse Bruidegom te verskyn (Ef. 5:26-27). Die heiligmaking wat so ‘n noodsaaklike voorbereiding vir ons ontmoeting met Christus is, behels twee duidelike aspekte. Die eerste is persoonlike heiligheid. Ons moet nie onrein, sondige gewoontes hê waardeur ons na gees, siel of liggaam besoedel word nie (2 Kor. 7:1; 1 Thess. 5:23-24). Tweedens moet ons werke doen waardeur die Here behaag word, omdat “heiligmaking” ook as “afsondering vir die diens van die Here” vertaal kan word. Daar moet dus bepaalde werke in ons lewens wees as die vrug van die Heilige Gees wat deur ons werk. Hierdie werke verseker ook dat toegewyde Christene ‘n paslike bruilofskleed sal hê (Op. 19:7-8; kyk ook Ps. 45:10-11,14-16).

8. Die lig van die wêreld

Ons is geroepe om die lig van die wêreld te wees (Matt. 5:14-16). God se gemeente moet soos ‘n kandelaar wees wat sy lig te midde van geestelike duisternis laat skyn. Ons verteenwoordig sy koninkryk in ‘n verdorwe wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Ons moet onder geen omstandighede enige kompromie met die skewe en krom weë van die wêreld maak nie, maar streng volgens die Woord van God wandel sodat ons onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie ons skyn soos ligte in die wêreld (Fil. 2:15). As ons in die lig van die Here se aangesig wandel, dan sal sy lig deur ons op die wêreld daarbuite skyn. Maak dus seker dat jy naby aan die Here bly en dat jou voetstappe in sy Woord geanker is. Die psalmis het gesê: “Die opening van u woorde gee lig” (Ps. 119:130). Ons weet wat die bron van geestelike lig is, naamlik die Here Jesus en sy Woord, en dit is ons opdrag om dit in die wêreld te laat skyn. Indien ons sou nalaat om die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde te wees, sal die wêreld nog vinniger versleg en deur boosheid verswelg word. God wil Homself deur sy gemeente aan die wêreld openbaar, en ons het ook ‘n opdrag om dit te doen. Ons moet soos ‘n stad wees wat bo-op ‘n berg is, en wat ter wille van God se koninkryk deur almal gesien kan word (Matt. 5:14). Neem jy ‘n standpunt vir die saak van die Here in, of hou jy dalk ‘n lae profiel ter wille van persoonlike gerief en ‘n lewe van eiebelang?

Persoonlike toewyding

Dit is ‘n aangrypende gedagte dat ons lede van die liggaam van Christus op aarde kan wees. Ons moet hierdeur aangespoor word om as geroepe heiliges na hoër vlakke van reinheid, opregtheid en diensbaarheid te streef. Ons moet altyd besef dat Jesus Christus die Hoof van die gemeente is, en nie een of ander menslike ampsdraer nie. Mag ons nooit tot die vlak van die gemeente in Éfese verval nie, aan wie Christus gesê het: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Op. 2:4). Laat dit liewer ons uitdaging wees om soos die gemeente in Filadelfia te wees wat die Woord van die Here bewaar en sy Naam nie verloën het nie (Op. 3:8). Laat ons “kragtig stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 1:3). Ek wy my daaraan toe om ook op leerstellige gebied nie die gebooie van mense te leer nie (Mark. 7:9,13), maar slegs die onvervalste melk van die Woord aan mense te bedien. Dit is ook almal van ons se taak om ander dissipels op te lei, sodat die evangelie sy snelle loop kan neem (2 Thess. 3:1) en die bruilofsaal vol kan word (Luk. 14:23).

Vrae

1.    Wie en wat is die uitgeroepenes?

2.    Is ‘n denominasie noodwendig deel van die liggaam van Christus?

3.    Wat is die liggaam van Christus en hoe funksioneer dit?

4.    Hoe word ‘n persoon of gemeente die tempel van die Heilige Gees?

5.    Beskryf die gemeente in haar hoedanigheid as die bruid van Christus.

6.    Wat is ons eerste liefde en hoe moet ons dit in stand hou?

7.    Hoe kan die gemeente die lig van die wêreld en die sout van die aarde wees?

 

12. Israel

Die volk Israel is van groot betekenis vir almal op aarde omdat die woorde van God aan hulle toevertrou is (Rom. 3:1-2). Volgens Romeine 11:11-15 is Israel nie net tydens hulle geestelike verblinding ‘n seën vir die nasies nie, maar sal dit des te meer wees nadat hulle geestelik herstel is. Dit is baie belangrik om van hierdie volk kennis te neem, omdat hulle as ‘n voorbeeld en waarskuwing aan ons voorgehou word om nie aan God ongehoorsaam te wees nie (1 Kor. 10:1-12).

Roeping, verstrooiing en herstel

‘n Groot deel van die Bybel handel oor die volk Israel. In ‘n baie besondere sin is dit die volk van God. Hy het hulle geroep en vir sy diens afgesonder, hulle weens hulle voortgesette ongehoorsaamheid onder die nasies verstrooi; en dit is dieselfde, onveranderlike Verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob wat die volk nou in die eindtyd weer in hulle land herstel.

Roeping en volksplanting. Die roeping van Israel het by Abraham begin, wat die stamvader van die volk is (Gen. 12:1-3; 13:14-15). Hierdie belofte is aan Isak en Jakob herbevestig (Gen. 26:3; 28:13). Die afstammelinge van die aartsvaders het eers vir 400 jaar lank in Egipte as vreemdelinge vertoef voordat hulle die Beloofde Land sou beërf (Gen. 15:13-14). Onder die leiding van Moses en Josua het hulle uit Egipteland opgetrek om die land wat die Here aan hulle vaders beloof het, in besit te neem. Dit was die volksplanting van Israel.

Verstrooiing. Die Here het ‘n geestelike standaard aan Israel gestel vir die voorreg om volk van God genoem te kon word. Indien hulle in gebreke sou bly om hieraan te voldoen, sou hulle die onguns en toorn van die Here op die hals haal. Verlengde tye van nasionale ongehoorsaamheid het daartoe gelei dat die Here sy volk dikwels aan hulle vyande oorgegee het. As gevolg hiervan moes hulle tot besinning kom en besef dat hulle van die Here afgedwaal het. Ná verootmoediging het Hy hulle weer in hulle land herstel (vgl. Lev. 26 en Deut. 28). Die Babiloniese ballingskap van Israel, wat net na een gebied was, was nie die internasionale verstrooiing [diaspora] na alle nasies nie. Die diaspora het eers later, in die eerste eeu n.C. plaasgevind, en is deur Jesus self aangekondig nadat Hy as Messias deur Israel verwerp is (Matt. 23:37-38; Luk. 21:20-24). Die inval in Israel en die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. deur die Romeinse magte, was die begin van die lang internasionale verstrooiing van Israel wat tot diep in die 20ste eeu sou voortduur. In hierdie tyd was daar in een of ander stadium Joodse ballinge in elke land ter wêreld.

Herstel. Op geen tydstip van Israel se bestaan was daar enige twyfel aan die geldigheid of voortbestaan van die onvoorwaardelike beloftes wat God aan die stamvaders van die volk gemaak het nie (Lev. 26:44-45). Al was hulle ook ontrou, God bly ‘n getroue Verbondsgod wat die nageslag van Israel sekerlik na die land van hulle vaders sal terugbring (Rom. 3:3-4). Die herstel van Israel uit die internasionale ballingskap het in Mei 1948 na die stigting van die moderne Joodse staat gelei. Die einddoel met Israel se fisiese herstel in die land van hulle vaders is die geestelike herstel van die volk uit ‘n vervalle toestand sodat hulle God van harte sal dien (Eseg. 36:22-28). Daar moet dus ‘n geestelike louteringsproses plaasvind nadat Israel in hulle land versamel is, wat in ‘n tyd van groot benoudheid sal gebeur (Eseg. 22:19-20; Jer. 30:7; Matt. 24:15-22). Net ‘n oorblyfsel van die volk sal gered word (Rom. 9:27), omdat die meerderheid van hulle (soos ook in alle nasies) geestelik verhard is.

Jerusalem

Jerusalem is die enigste stad ter wêreld wat die Here uitverkies het om sy Naam vir ewig daar te vestig (1 Kon. 9:3, 11:36). In die OT is die tempel as die huis van die Here in Jerusalem gebou. Die grootste openbaring van God aan Israel én die hele mensdom het egter met die koms van sy Seun, Jesus, na die aarde plaasgevind. Hy sou nie net die Verlosser van Israel wees nie, maar van die hele wêreld (Jes. 9:5-6; 49:6). Die Here Jesus het in Jerusalem, daardie unieke stad van godsopenbaring, die boodskap van die ewige lewe verkondig. Hy het ook in die tempel geleer. Hy én sy boodskap is egter deur die groot meerderheid van die leiers en inwoners van die stad verwerp. Hierdeur het hulle groot ellende oor hulleself gebring. Tydens sy intog in Jerusalem op ‘n esel was Jesus baie bewoë oor die stad en sy geestelik verblinde inwoners, wat die Messias tot hulle eie ondergang verwerp het (Luk. 19:41-44).

Die Here Jesus is nét buite Jerusalem by Gólgota, in die steengroewe van Salomo, gekruisig. Hier is die groot soenoffer vir die sondes van ‘n verlore mensdom aan God betaal. Vir ewig sal Gólgota uitstaan as die uitdrukking van God se neerbuigende liefde en vergewensgesindheid, en as die enigste poort tot die ewige lewe. Daar is geen ander naam onder die hemel gegee waardeur mense gered kan word nie – net Jesus Christus alleen (Hand. 4:12). Jesus is net buite die stadsgebied van Jerusalem begrawe en het drie dae later uit die dood opgestaan. Veertig dae ná sy opstanding het Hy van die Olyfberg af na die hemel opgevaar. Nét voor dit het Hy die opdrag van wêreldevangelisasie aan sy dissipels gegee. Die evangelisering van die wêreld sou egter eers gebeur nadat nóg ‘n belangrike heilsgebeurtenis in Jerusalem plaasgevind het, naamlik die uitstorting van die Heilige Gees (Luk. 24:49; Hand. 1:8). Die Sondag toe dit gebeur het, was die geboortedag van die kerk van Christus in Jerusalem.

Die groot vraag is: Was die rol van Jerusalem as ‘n plek van godsopenbaring hiermee vervul en uitgedien? Wat van die Here se besluit dat Hy sy Naam vir ewig in Jerusalem sou vestig? Het dit tot ‘n einde gekom toe Israel vir Jesus verwerp en laat kruisig het? Allermins! Die langtermyn toekoms van Jerusalem was nog altyd, en is nog steeds, binne God se raadsplan seker en gewis. Jesus het vir die Jode gesê dat Jerusalem verwoes en sy inwoners oor die hele wêreld verstrooi sou word totdat die tye van die nasies vervul is, m.a.w. tot aan die einde van die kerkdispensasie (Matt. 23:37-39; Luk. 21:20-24). Ná Israel se verstrooiing en fisiese herstel sal hulle ook geestelik herstel word (Rom. 11:25-26). Bybelse Jerusalem (die Ou Stad) is in Junie 1967 van Jordanië verower en in Augustus 1980 tot Israel se hoofstad verklaar. Dit het die laaste geslag van die huidige bedeling ingelui.

In die laaste sewe jaar van die laaste geslag sal die 70ste jaarweek van Daniël verloop. Israel sal eers, tot hulle eie nadeel, ‘n verbond met die valse messias sluit (Joh. 5:43; Dan. 9:27), en dan ná 3½ jaar hulle verbond met hom verbreek wanneer hy homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Aan die einde van die verdrukking sal die ware Messias met sy wederkoms sy voete op die Olyfberg sit (Sag. 14:4-5), dan sal die hele oorblyfsel van Israel opsien na Hom vir wie hulle deurboor het (Sag. 12:10) en geestelik met Hom versoen word (Sag. 13:1). Hulle sal Hom met die seëngroet van Matt. 23:39 begroet. Die Messias sal die troon van Dawid in Jerusalem herstel (Hand. 15:16-17), dan sal die profesie in Luk. 1:32 ook vervul word. Die vrederyk sal daarna aanbreek met Jerusalem as hoofstad van die wêreld (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17). Dit sal ‘n tyd van groot heerlikheid vir Jerusalem en die geredde Joodse volk wees (Sag. 8:22-23; Jes. 33:20-22; 52:1; 60:3,11-12,14,18; Jer. 31:31-34).

In die lig van die wonderlike toekoms van Jerusalem moet ons ernstig vir hierdie stad bid (Ps. 122:6; Jes. 62:6-7). Ons moet dit soveel te meer doen omdat die vyande van God, van Israel en van die Christendom alles moontlik sal probeer om Israel uit hulle land te verdryf en ook teen die Messias te veg wanneer Hy na Jerusalem terugkeer. Op dié dag sal die Here met die goddelose wêreldmagte wat onder die leiding van die Antichris na Israel sal optrek, in die gerig tree (Sag. 14:2-3,12-13, Joël 3:1-2; Op. 19:19-21). Volgens Joël 3:2 is die nasies met ‘n oortreding teen Israel én teen God besig omdat hulle die land wat die Here aan Israel gegee het, probeer verdeel om vir ‘n Palestynse staat voorsiening te maak. Hierdeur kry Israel se vyande ‘n vastrapplek in hulle midde, en word die goddelike mandaat wat Israel oor die land het, geminag en geskend.

Houding teenoor Israel

Daar is wyd uiteenlopende houdings deur die nasies teenoor Israel. Dit is ‘n belangrike saak hierdie, omdat die oordele van die Here oor Israel se vyande uitgespreek is, en sy seën oor diegene wat hulle ondersteun (Gen. 12:3). Om die seën van die Here te verseker moet ons Israel seën. Moenie haastig wees om Israel te verdoem omdat hulle Jesus verwerp en gekruisig het nie. Dit was wél ‘n daad van ongeloof aan hulle kant, maar dit was deel van God se raadsplan vir die redding van sondaars in die hele wêreld. Sonder die plaasvervangende dood van Jesus sou jy en ek nooit Christene kon word nie, daarom hou Israel se struikeling en wandade tóg vir ons ‘n groot seën in (Rom. 11:11-12).

Omdat Israel vir Jesus verwerp en gekruisig het, het die saligheid tot ons, die nie-Joodse volke, gekom. Israel is in sy gevalle toestand dus ‘n bron van seën vir ons! Die Here sê dat hulle in hul geestelik herstelde toestand, in die komende vrederyk, nog ‘n groter seën vir die wêreld sal wees (Sag. 8:23). Uit enige oogpunt beskou, is ons nét erkentlikheid, seën, voorbidding en onderskraging aan Israel verskuldig. Ons moet hulle jaloers maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus Christus, dien. Getuienis van hierdie aard het reeds na ‘n klein maar betekenisvolle toename in die aantal Messiaanse Jode gelei. Die toekoms van Israel is in die hande van dié Jode wat vir Jesus (Yeshua Ha Mashiach) aanneem, bely en dien (Rom. 2:28-29).

Persoonlike toewyding

Wat ‘n voorreg om Israel te seën en van die ware Messias teenoor hulle te getuig! Die Here het Homself daartoe verbind om hierdie volk na hulle land terug te bring (Jer. 31:10), ‘n oorblyfsel van hulle geestelik lewend te maak (Eseg. 36:25-27), Jerusalem te verhef en die wêreld daarvandaan te regeer (Jer. 3:17). Terwyl die goddelose nasies van die wêreld in hulle dwaasheid teen Jerusalem en Israel saamspan om hulle te vernietig (Ps. 83:3-5; Sag. 12:3), verbind ons onsself daartoe om Jerusalem en sy inwoners te seën deur die beloftes te verkondig wat die Messias aan hierdie stad en volk gemaak het (Jes. 62:6-7; Jer. 31:38; Matt. 23:39). Die Messias is die Heilige van Israel, en die Jode sal geen rus, voorspoed of vrede hê voordat hulle met Hom versoen is nie – Hy is hulle enigste hoop.

Vrae

1.    Noem twee Bybelse beloftes oor die eindtydse herstel van Israel.

2.    Noem drie belangrike gebeurtenisse wat in die toekoms in Jerusalem gaan plaasvind.

3.    Wat moet ons houding teenoor die ongeredde Joodse volk wees?

4.    In watter opsig is Israel vir die Christendom tot seën, wat die hede én die toekoms betref?

5.    Wat sê die Bybel oor nasies wat vir Israel benadeel, vervolg en beveg?

6.    Wie het Israel se land aan hulle gegee, en vir hoe lank is dit aan hulle gegee?

7.    Gaan die troon van Dawid herstel word en, indien wel, wie gaan van dié troon af regeer?

 

13. Geestelike Dwalings

Waarom is daar so baie Christelike kerke en sektes in die wêreld wat leerstellig in ‘n mindere of meerdere mate van die Bybel afwyk, en in sekere gevalle selfs die waarheid totaal verloën? Dit is alles die gevolg van onkunde en misleiding. Hierdie probleem is besig om verder in omvang toe te neem. In die lig hiervan is dit meer as ooit tevore nodig dat ons ons kennis van die Woord verbreed, ons geestelike insig verdiep, ons toewyding aan die Here Jesus verhoog en ons waaksaamheid teen die misleiding van Satan en sy valse profete verskerp. Vervalsings van die Christelike geloof neem in die eindtyd geweldig toe omdat dit die finale voorbereiding vir die verskyning van die valse Christus en die valse profeet is, wat deur hulle leuens die hele wêreld sal mislei (Matt. 24:4-5; 2 Thess. 2:6-10; Op. 13:11-14).

Hoewel geestelike misleiding in die Tuin van Eden al begin en onafgebroke deur die eeue heen voortgeduur het, is dit nou besig om die grootste afmetings in die geskiedenis van die mensdom aan te neem. Dit is van die uiterste belang dat elke persoon seker sal maak dat hy nie op ‘n dwaalspoor beland het nie, want daar is baie valse profete (1 Joh. 4:1).

Sedert die vroegste tye het die meeste Christelike kerke ‘n betreurenswaardige onvermoë getoon om tussen die waarheid van God se Woord en die baie vervalste weergawes daarvan te kan onderskei (Gal. 1:6-8; 2 Kor. 11:2-4). Uit laasgenoemde teks is dit duidelik dat daar drie sake is wat deur die sielevyand vervals word om Christene op ‘n dwaalweg van verleiding te laat beland, naamlik die leer oor die Here Jesus, oor die Heilige Gees, en oor die evangelie van verlossing. In die proses word ‘n ander Jesus, ‘n ander gees en ‘n ander evangelie verkondig.

‘n Ander Jesus

Die volgende is die sewe algemeenste vervalsings of namaaksels van Jesus wat aan die wêreld gebied word. Dit word gedoen in ‘n poging om die verlossingswerk van die ware Lam van God te verdoesel en te verloën deur aan die mense net ‘n gedaante of skewe beeld daarvan voor te hou:

Jesus die profeet. In baie gelowe, byvoorbeeld Islam en die Jehovasgetuies, word Jesus se godheid ontken en word Hy net as ‘n profeet en menslike leermeester voorgehou. Hy word ook as die Seun van God en as Christus geloën (1 Joh. 2:22-23). In verskeie teologiese kweekskole word die godheid en maagdelike geboorte van die Here Jesus ook geloën.

Jesus die voorbeeld. Daar word dikwels in swak prediking net na Jesus se lewe as ‘n voorbeeld verwys wat nagevolg moet word. In afgewaterde boodskappe van dié aard word die kruis en die bloed van Christus wat vir sondaars gestort is, verswyg. Die eis van wedergeboorte word ook nie genoem nie, en mense word net aangemoedig om soos Jesus ‘n mooi lewe te lei. In prediking van dié aard word mense nie gered nie – hulle word net intellektueel en emosioneel gemotiveer.

Jesus die gewer van gawes. Baie mense dien ‘n Jesus wat net gawes en voordele aan hulle bied. Hy moet hulle gesond maak, ryk maak en kragte aan hulle gee om wonderwerke te doen. Hy moet sy volgelinge ook konings maak en sy koninkryk nóú deur hulle openbaar.

Jesus die politieke verlosser. In die Derde Wêreld word dikwels ‘n Jesus verkondig wat met die onderdruktes assosieer en vir hulle ‘n vryheidsvegter is. Nie net verbreek hy die kettings van politieke onderdrukking en slawerny nie, maar hy hef die miskendes ook sosiaal en ekonomies op. Dié Jesus is net by die sekulêre lotgevalle van die mens betrokke. Hy bevry hulle nie van sonde nie, maar van ander onaangename omstandighede. Hy help hulle in hulle bevrydingstryd teen die onderdrukking van ander mense, maar nie regtig in hulle stryd teen die sonde nie.

‘n Jesus wat in die hel gesterf het. Nog ‘n ernstige verdraaiing van Jesus se verlossingswerk wat baie veld wen, word deur sekere Word of Faith predikers verkondig. Volgens hulle siening is die fisiese kruisdood van Jesus nie van belang nie omdat Hy glo geestelik in die hel vir die sondes van die wêreld gesterf het. Vir hulle is die kruis ‘n plek van swakheid en mislukking.

Jesus die sondaar. Die Jesus wat in verskeie Hollywood films uitgebeeld word, is ‘n sondaarmens wat, soos enige ander gevalle mens, deur sondige hartstogte oorheers word. Hierdie hoogs lasterlike voorstelling van Jesus is die tema van films soos Jesus Christ Superstar, The last temptation of Christ en Jesus of Montreal. In laasgenoemde film leef Jesus saam met ander jongmense in ‘n woonstel. Hulle drink en lei ‘n onsedelike en losbandige lewe.

Die kosmiese Jesus. Die groot eindtydse vervalsing van Jesus is daarop gemik om die verskyning van die Antichris en sy misleidende meelopers moontlik te maak (Matt. 24:4-5). Die Nuwe Era Beweging propageer ‘n universele Jesus wat die verpersoonliking van die messiaanse verwagtinge van alle godsdienste ter wêreld is. Daar word gesê dat hy aan die hoof van ‘n hiërargie van messiasse is, en dat Boeddha, Krishna, Mohammed, Jesus van Nasaret en ander geestelike leiers as lede van dieselfde familie almal aan hom ondergeskik is. As die kosmiese Jesus van al die godsdienste op aarde sal hy die mensdom finaal kom verenig.

‘n Ander gees

Gepaard met die verkondiging van ‘n ander Jesus is daar ook ‘n ander gees werksaam om mense te mislei en hulle onder die krag van die dwaling te bring. Ons word hierteen gewaarsku (1 Joh. 4:1-6). Mense wat nie in die waarheid gefundeer is nie, sal die sataniese gees van dwaling ten prooi val en as gevolg daarvan die Antichris aanvaar (2 Thess. 2:8-12).

Die geweldige beheptheid met bonatuurlike geestelike kragte wat op ‘n skouspelagtige wyse as tekens en wonderwerke manifesteer, is besig om oral op aarde pos te vat. Die Nuwe Era Beweging en sy geassosieerde valse godsdienste gebruik dit as klimaatskepping vir die openbaring van die kosmiese Christus (die Antichris).

Daar is vandag ‘n gees waarneembaar in die wêreld wat as die Heilige Gees bestempel word, maar wat nie die egte kenmerke van die Heilige Gees openbaar nie. Dit is ‘n gees wat veral die klem op homself laat val, in plaas van op die Here Jesus. Dit is ‘n gees wat die uitsprake van die Bybel verontagsaam ter wille van die verwesenliking van sy eie doelwitte. Hierdie gees maak ook voorsiening vir diegene wat nie vir Jesus as Middelaar tussen God en die mens aanvaar het nie. Dit is ‘n gees wat al die uiterlike manifestasies van die Heilige Gees naboots, maar hy oortuig nie van sonde nie. Hy het inteendeel geen probleem om met leuens, bedrog en halwe waarhede saam te leef nie en deins nie daarvoor terug nie. Dit is die “ander gees” waarteen die Bybel ons waarsku (2 Kor. 11:4; 1 Tim. 4:1).

‘n Ander evangelie

Om begryplike redes sal die verkondiging van ‘n ander Jesus onder die beïnvloeding van ‘n ander gees ook ‘n ander evangelie tot gevolg hê (2 Kor. 11:4). Baie van hierdie wolwe in skaapsklere (2 Kor. 11:13-15; 2 Tim. 4:3-4; Hand. 20:29-30) staan vandag op kansels en verkondig valse evangelies soos die volgende:

‘n Dooie vormgodsdiens. ‘n Evangelie waarin die kruisboodskap en die bloed van die Lam wat vir ons sondes gestort is, asook die eis van wedergeboorte, nie absolute voorrang geniet nie, lei na ‘n dooie vormgodsdiens waarin die Here net met die lippe gedien word (Mark. 7:6-13). Omdat hierdie soort godsdiens geestelik sulke lae standaarde het, is dit baie populêr en word dit tereg ‘n “verbruikersvriendelike godsdiens” genoem. Dit pas die meeste mense om salig verklaar te word sonder om regtig met hulle sonde te breek en hulle saak met die Here reg te maak.

Israelvisie. Die Israelvisie (British Israelism oorsee) is ‘n onbybelse siening dat die wêreld se blanke nasies van die tien stamme van Israel afstam. Dié mense beweer dat God Hom net met ‘Israel’ bemoei en dat alle ander rasse verdoemdes is. Die evangelie is egter vir elke volk, stam en nasie in die hele  wêreld bedoel (Matt. 28:19; Hand. 13:46-48; Kol. 3:11; Op. 7:9).

Koninkryksteologie. Hierdie teologie is een van die gevolge van ‘n verkeerde verwagting by mense wat dink dat die koninkryk van Christus wat met sy wederkoms geopenbaar sal word, in die kerkbedeling reeds moet realiseer. Hulle wil nóú konings wees wat saam met Christus regeer, en ook groot mag, aansien en rykdom hê. Hulle probeer om die wêreld nou deur mensgemaakte herlewings en transformasie-prosesse te verander sodat die koninkryk kan kom.

Kerkeenheid. Die ekumeniese vereniging van die Christendom het as doelstelling die post-denominasionele wêreldkerk van die 21ste eeu. Dit sal onder leiding van profete en apostels staan wat openbarings en spesiale magte van die Here sal ontvang. In dié nuwe kerk gaan dit nie om leerstellige suiwerheid nie, maar om eenheid en ‘n groot kragvertoon aan die ongeredde wêreld.

Multigodsdienstige ekumene. Die eindbestemming van alle valse en verdraaide evangelies is die universalistiese evangelie van die nuwe wêreldorde en die Nuwe Era Beweging, waarin hulle almal saam as ‘n alliansie van wêreldgodsdienste hegte aansluiting by mekaar vind. Hulle wag vir ‘n enkele godsdiensleier wat die hele wêreld sal verenig (Op. 13:3-4) Soos verskillende vertakkings van ‘n rivier sal al die gelowe op aarde saamvloei en hande vat om hulle gemeenskaplike ekumeniese doelstelling van eenheid op aarde te verwesenlik.

Persoonlike toewyding

Ek glo dat die Heilige Gees my in die hele waarheid sal lei, en ook aan my die kennis en onderskeidingsvermoë sal gee om die waarheid van alle vervalsings daarvan te kan onderskei. As ek die vrymakende krag van die Gees van die waarheid ken, God se Woord wat die waarheid is, én die Here Jesus wat die weg, die waarheid en die lewe is, dan sal ek van die subtiele dwalings van Satan gevrywaar wees en nooit my lewe op die sand van misleiding bou nie. Die waarheid hou vir ewig stand omdat dit gesetel is in Hom wat die Bron van alle waarheid is, terwyl die leuens hulle diepste oorsprong by die vader van die leuen het. Ek neem die belangrike waarskuwing van die Here Jesus in sy profetiese rede ter harte, toe Hy gesê het: “Pas op dat niemand julle mislei nie... want daar sal valse... profete opstaan en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:4,24). Met my voetstappe geanker in die Woord, sal ek nie links of regs van hierdie pad afwyk nie. Ek lê myself daarop toe om, met die Here se hulp, die woord van die waarheid reg te vertolk (2 Tim. 2:15) en mense teen alle verdraaide weergawes daarvan te waarsku (2 Tim. 4:2-5).

Vrae

1.    Noem en bespreek drie valse Jesusse.

2.    Beskryf twee verskille tussen ‘n valse gees en die Heilige Gees.

3.    Wat is vormgodsdiens en waarom is dit baie verbruikersvriendelik?

4.    Wat is die dwaling van koninkryksteologie?

5.    Wie sal die uiteindelike hoof van die multigodsdienstige organisasie op aarde wees?

 

14. Die Wet en Genade

Dit is vir baie Christene moeilik om tussen God se wet en sy genade te kan onderskei. Soms word daar in die Nuwe Testament geen verdere bestaansreg aan wetsnakoming verleen nie, maar in ander gevalle word die verhewe en tydlose beginsels van God se wet aan ons voorgehou as ‘n riglyn vir ons lewe en iets waaraan ons onsself moet verbind. Hierdie twee uiteenlopende standpunte blyk duidelik uit Paulus se briewe. Enersyds sê hy dat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade (Rom. 6:14), en ook dat deur die werke van die wet geen vlees voor God geregverdig sal word nie, omdat die wet die hele wêreld as sondaars brandmerk en doemwaardig voor God maak (Rom. 3:19-20). Vir die Galásiërs sê hy dat die wet vir ons ‘n vloek geword het (Gal. 3:13) omdat ons nie deur wetsnakoming gered kan word nie (Gal. 5:4).

Andersyds sê Paulus dat die wet heilig, regverdig en goed is (Rom. 7:12) en dat die relevansie daarvan as ‘n goddelike riglyn vir ons lewens steeds vas staan (Rom. 3:31). Die Here Jesus sê ook dat Hy nie gekom het om die wet en die profete te ontbind nie, maar te vervul. Niemand mag geleer word om hierdie gebooie te verbreek nie (Matt. 5:17-19). Hoe moet ons dan die wet beoordeel en wat is die verband tussen die wet en genade?

Die wet en sy NT toepassing

Die wette van die Here word in die eerste vyf boeke van die Bybel beskryf en in Hebreeus die Torah genoem. Torah beteken om te onderrig en behels God se riglyne waarvolgens sy volk Israel moes lewe. Daar is 613 voorskrifte in die Torah, wat ook as die Pentateug bekend staan. Sommige van die wette is tydlose, universele reëls wat vir almal geld, terwyl baie daarvan slegs ‘n voorbereidende funksie met die oog op die koms van die Messias gehad het. In Hom is hulle finaal vervul en sou nie daarna in hulle oorspronklike vorm voortgesit kon word sonder om die Messias te verloën nie. Hieronder is die offers en baie van die feeste. Selfs die tydlose reëls is ook in die Messias vervul omdat net Hy die hele wet volmaak kon nakom. Deur sy genadewerk aan die kruis en die krag van die Heilige Gees stel Hy gelowiges in staat om die geestelike en morele beginsels van God se wet (‘n rein hart, ‘n rein lewe en opregte diens aan die Here) te eerbiedig en uit te leef. Hy maak dit vir ons moontlik om die verhewe geestelike doelstellings van die wet te kan uitleef (Miga 6:8).

Hoe moet ons weet watter aspekte van God se wet nog steeds in die Nuwe Testament geld? Die Here Jesus het dit alles vir ons in die wet van die liefde saamgevat (Matt. 22:36-40). In hierdie opsomming het Christus Skrif aangehaal wat die Tien Gebooie in twee dele verdeel, naamlik liefde tot God (Deut. 6:5) en liefde tot ons naaste (Lev. 19:18,34). In die nakoming van die wet van die liefde sal ons alle wette vervul wat op ons verhouding met God en ons naaste betrekking het. As ons God waarlik liefhet, sal ons Hom eer deur heilig voor Hom te leef en nooit ander gode voor sy aangesig te bring nie (2 Kor. 6:14-18). Dieselfde beginsel van liefde geld vir ons verhouding met ander mense (Rom. 13:8-10).

Nege van die Tien Gebooie word in die Nuwe Testament herhaal, in die wet van die liefde saamgevat en op alle gelowiges van toepassing gemaak. Die eerste drie gebooie vereis liefde tot God (Ex. 20:2-7) en die laaste ses bepaal ons menseverhoudings (Ex. 20:12-17). Die vierde gebod het op die onderhouding van die sabbat op die sewende dag van die week betrekking (Ex. 20:8-11). Dit is die enigste van die Tien Gebooie wat nie in Christus se opsomming weerspieël word nie, omdat Hy dit doelbewus uitgelaat het. Waarom? Omdat dit slegs aan Israel gegee is as ‘n teken tussen hulle en God (Ex. 31:16-17). Die onderhouding van die sabbat moes die volk se aandag op die uittog uit Egipte vestig (Deut. 5:15) en hulle daaraan herinner dat die Here hulle verlos, heilig en afsonder vir sy diens (Eseg. 20:12).

Die sabbat was een van die seremoniële wette wat net ‘n skaduagtige betekenis in die Ou Testament gehad het, hangende die koms van die Messias (Kol. 2:16-17). Ons is nie meer onder die verpligting van wette oor kos (behalwe dit wat deur afgode besoedel is: Hand. 15:20), feeste en sabbatte nie, omdat die nuwe lewe in Christus nie van die onderhouding daarvan afhanklik is nie. In Hom het ons die rus van die Here betree, en behoort elke dag ‘n dag van toewyding aan Hom te wees. Of ons spesiale dae vir toewyding aan die Here het of nie, is ‘n saak van persoonlike oortuiging in die lig van ons omstandighede (Rom. 14:5). Ons het nie rigiede wetsbepalings wat dit betref nie, slegs ‘n lang Christelike tradisie van Sondag-aanbidding. Dit het begin by Jesus se opstanding uit die dood op ‘n Sondag en sy prediking aan die dissipels op dieselfde dag (Joh. 20:1,19-22,26), hulle ontmoeting ‘n week later weer op ‘n Sondag, en die uitstorting van die Heilige Gees op die sewende Sondag ná Jesus se opstandingsdag. Dit het met die Joodse Pinksterfees saamgeval, wat altyd op ‘n Sondag gevier is (Hand. 2:1-4; vgl. Lev. 23:15-16). Daarna het die Here Jesus se dissipels spontaan op Sondae byeengekom om sy opstandingsdag te vier (Hand. 20:7; 1 Kor. 16:1-2), en hulleself ook duidelik van wettiese byeenkomste deur die ortodokse Jode op die sewende dag te distansieer.

Nuwe Testamentiese gelowiges uit die nasies moet daarop bedag wees dat hulle nooit deel van Israel en sy verbonde en wette was nie, en dit ook nie ná hulle bekering word nie. ‘n Belangrike deel van God se verbond met die Jode sluit die reg tot die bewoning van die land Israel in. Hierdie reg, sowel as ander aspekte van hulle verbonde met die Here, is nie op die kerk oordraagbaar en dus ook nie op hulle van toepassing nie.

Kenmerke van die wet

Hoewel die wet verby is, het dit ‘n belangrike doel gedien:

  • Die wet bring kennis van die sonde – Rom. 3:20, 4:15; 5:13,20; 7:7; 1 Kor. 15:56.
  • Die wet is ‘n noodsaaklike voorbereiding op die koms en genadewerk van die Messias, maar die onvolmaakte moes vir die volmaakte plek maak – Heb. 7:27-28; 10:1-12.
  • Deur die wet is Israel in bewaring gehou totdat die Messias gekom het om vir hulle te doen wat die wet nie kon doen nie – Gal. 3:23-24.
  • Die wet moes die weg na ‘n beter verbond baan – Heb. 7:22; 8:6-7.

Die beëindiging van die bedeling van die wet

Met die koms van die Messias, en spesifiek sy kruisiging, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees, het die bedeling van die wet as ‘n geïntegreerde sisteem heeltemal tot ‘n einde gekom. Nie net het die offerdiens en die bemiddeling deur onvolmaakte priesters vir gelowiges verval nie, maar die slawerny aan sondes wat deur die wet geïdentifiseer en as ‘n swaar juk op mense geplaas is, is deur die verlossingswerk van Christus beëindig (Rom. 10:4).

Die wet van Christus

Ons is wél onder die wet van Christus (Joh. 13:34; Gal. 6:2), waaronder die tydlose beginsels van die OT wet vervat is. Ons kan egter nooit ons saligheid buite Christus in futiele pogings tot wetsnakoming soek nie, want as ons deur die wet geregverdig wil word, het ons van die genade verval (Gal. 5:4). Wat die tydlose bepalings oor liefde tot God betref, is die standaard aansienlik hoër in die NT. As gelowiges moet ons almal deur die vervulling en instaatstellende krag van die Heilige Gees met die Here Jesus beklee word (Rom. 13:14; Gal. 4:19) wandel soos Hy gewandel het (1 Joh. 2:6) en medewerkers van God deur Jesus Christus word (1 Kor. 3:9). Wat ons verhouding met ons naaste betref, word die standaard ook gelig: Dit is nie meer net sonde om die daad van owerspel te pleeg nie, maar selfs net om sulke gedagtes te bedink (Matt. 5:27-28). Wraaklus moet deur vergewensgesindheid en mededeelsaamheid vervang word (Matt. 5:38-42) en haat deur liefde (Matt. 5:43-47). Ons moet na hoër hoogtes op die leer van goddelike volmaaktheid uitstyg (Matt. 5:48) deur in ons hele lewenswandel heilig te word soos wat die Drie-enige God heilig is (1 Pet. 1:15-16).

As die beginsels van goddelike liefde deur die Heilige Gees op die tafels van ons weergebore harte geskryf is (2 Kor. 3:3), het ons waarlik ‘n boodskap van liefde, hoop en vergewensgesindheid vir ‘n wêreld in sy nood en kan ons die lieflike geur van Christus se kennis oral versprei (2 Kor. 2:14). Dit sal ons in staat stel om die kwaad deur die goeie te oorwin (Rom. 12:21) en sodoende toonbeelde van Christus se liefde, vergewensgesindheid en reddende genade te wees. Ons is ook geroepe om die ortodokse Jode jaloers te maak deur die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias dien (Rom. 11:11). Hulle moet geleer word om die Here in die nuwigheid van die Gees te dien (Rom. 7:6). As sulke verlostes dán feeste vier, moet dit eg Messiaanse feeste soos die Nagmaal wees, of die opstandingsfees van die Messias op Sondae. Ook die pinksterfees en die loofhuttefees kan as Messiaanse feeste gevier word waarin die eerste koms van die Messias, die uitstorting van die Heilige Gees, en die hoop op die Here Jesus se wederkoms uitdruklik erken word. Wanneer dit gedoen word, is die betrokke fees nie meer ‘n blote skaduwee van toekomstige dinge nie, maar het dit ‘n konkrete gestalte en vervulling in die Messias verkry (Kol. 2:16-17). Daardeur sal die deelnemers aan die fees vir Israel én die hele wêreld sê dat hulle viering nie binne die raamwerk en bepalings van die wet is nie, maar binne die raamwerk van die Messias se NT heilsplan vir alle nasies.

Persoonlike toewyding

Ek dank die Here vir sy onuitspreeklike genade wat Hy deur die Messias aan Israel én die hele wêreld geopenbaar het. Deur hierdie genade is ons nie alleen gered nie, maar die beginsels van goddelike liefde waarop die wet berus, “leer ons om die goddelooshede en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:12-13). Sy wet van die liefde dring ons om die boodskap van redding en heiligmaking aan alle nasies te verkondig. Ortodokse Jode moet geleer word om, soos Paulus, nie hulle geregtigheid in menslike pogings tot wetsnakoming te soek nie, maar in ‘n geloofsverhouding met die Here Jesus (Fil. 3:9). Dan sal die liefde van God deur die Heilige Gees in hulle harte uitgestort word (Rom. 5:5), en sal hulle die innerlike motivering en krag hê om te wandel soos Hy wat die wet volmaak nagekom het (1 Joh. 2:6).

Vrae

1.    Wat is die NT vervulling van die wet van God?

2.    In watter opsig is die liefde die vervulling van die wet?

3.    Hoe word die beginsels van God se liefde in ons harte gevestig?

4.    Noem drie kenmerke van die OT wet, waaruit die doel daarvan duidelik sal blyk.

5.    In watter opsigte is morele standaarde in die NT hoër as in die OT?

6.    Wat moet die Jode doen om saligheid te kan verkry?

 

15. Dispensasies in die Bybel

Die openbaring van God aan die mens word in die Bybel binne die raamwerk van die volgende agt dispensasies, of bedelings, beskryf. In die agt dispensasies vind daar ‘n progressiewe openbaring van die kennis van goed en kwaad plaas. Dit vorder deur verskillende stadiums en eindig in ‘n toestand van volmaaktheid waarin ons ten volle sal ken soos ons ook ten volle geken is (1 Kor. 13:12). In hierdie proses vind daar nie net ‘n toename in die kennis van God en sy geregtigheid plaas nie, maar ook ‘n toename in die kennis en werke van die opponerende koninkryk van die duisternis. Die belangrikste kenmerke van hierdie dispensasies is:

1. Die bedeling van onskuld

Die heel eerste bedeling waarin Adam en Eva in die paradys was, was die bedeling van onskuld. Hulle het geen kennis van goed en kwaad gehad nie, daarom was hulle nie eers van hulle naaktheid bewus nie. Die Here het aan hulle sekere opdragte gegee, wat ook ‘n verbod op die vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad ingesluit het. As hulle hiervan eet, sou hulle sekerlik sterwe (Gen. 2:17). Satan het vir Adam en Eva op ‘n listige wyse verlei om God se opdrag te oortree en van die boom se vrugte te eet (Gen. 3:1-5). Hulle het hierdeur nie net van die onderskeid tussen goed en kwaad bewus geword nie, maar self slagoffers van die kwaad geword. Omdat hulle teen God gerebelleer en na die duiwel geluister het, het hulle ‘n sondige natuur gekry en geestelik gesterwe. Ook het hulle fisies sterflike mense geword. Die bedeling van onskuld is deur die sondeval beëindig en Adam en Eva is uit die paradys verdryf.

2. Die bedeling van die gewete

Vir ‘n lang tyd ná die sondeval het die mens deur middel van die stem van sy gewete tussen goed en kwaad onderskei. Hy het geen ander voorskrifte gehad om na te volg nie. Kain het ten spyte van hierdie kennis steeds die sonde verkies en dit gedoen (Gen. 4:7-8). Verskeie mense het na aanleiding van hulle innerlike oortuigings geregtigheid nagestreef, en ook getuienis ontvang dat hulle God behaag het. Die Here het Homself aan hierdie mense geopenbaar en selfs met hulle gepraat. Baie van hulle het predikers van geregtigheid geword wat die wil van God aan ander bekend gemaak het, bv. Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak, Jakob en Josef.

3. Die bedeling van menslike regerings ná die vloed

Die Here het ná die vloed ‘n verbond met Noag gesluit (Gen. 9:1-9), en daarna die leiers van familiegroepe of volke vir hulle besluite en die welsyn van hulle volgelinge verantwoordelik gehou. Volgens Romeine 13:1 is hierdie magte, of menslike regerings, deur God ingestel. In Genesis 10 is daar ‘n lys afstammelinge van Noag deur Sem, Gam en Jafet, wat almal familiehoofde en later hoofde van volke geword het. Wanneer hierdie regerings in afgodediens verval het, is hulle deur die hele groep hierin nagevolg. Abraham was ook só ‘n patriarg met ‘n groot gevolg, maar hy het in God geglo en sy volgelinge geleer om God te dien. Die konsolidering van menslike magte het by die vestiging van die Babiloniese ryk tot ‘n wêreldregering en uiterste vorm van rebellie teen die koninkryk van God gelei. Dit het die grondslag vir talle goddelose volksregerings en wêreldregerings daarna gelê, maar ook die moontlikheid vir godvresende regerings ingehou.

4. Die bedeling van die wet

Die bedeling van die wet het by Sinai aangebreek, waarin die onderskeid tussen goed en kwaad baie meer eksplisiet uitgespel is. God het nie net in die Tien Gebooie nie, maar ook deur ‘n groot aantal verordeninge en insettinge, aan sy volk opdragte gegee oor wat hulle móés doen en nié mag doen nie. Sodoende moes Israel God se ryk én Satan se ryk beter leer ken. Ten spyte van ernstige waarskuwings het hulle herhaaldelik die afgode van die heidennasies rondom hulle aanbid, omdat hulle innerlike motivering om die Here te dien, swak was. Hulle het hul harte verhard en geweier om hulle tot die Here te bekeer en sy wette te gehoorsaam (Jer. 5:3; 23:14; 44:5).

5. Die bedeling van genade (kerkbedeling)

Die bedeling van genade word ook die kerkbedeling of die bedeling van die Heilige Gees genoem. Ná die kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus is die Heilige Gees uitgestort om mense te wederbaar en in die hele waarheid te lei. Omdat Hy hulle van sonde en geregtigheid oortuig, verkry hulle nog veel dieper insig in die onderskeid tussen goed en kwaad. Die goeie sluit ‘n dieper kennis van God deur Jesus Christus in, soos in die boeke van die NT vervat. Die duiwel en sy werke word ook tot ‘n groot mate in hierdie bedeling geopenbaar (Kol. 2:15). Ons weet veel meer van Satan, sy demone en hoe hulle te werk gaan om mense te verlei. Ons ken egter nog nie ten volle nie (1 Kor. 13:9) hoewel ons verligte oë van die verstand het (Ef. 1:18) om veel meer as in vorige dispensasies oor lig en duisternis te kan verstaan.

6. Die bedeling van die Antichris se regering

Wanneer die teëhouer, naamlik die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees, deur middel van die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris geopenbaar word (2 Thess. 2:6-12). Dit sal ‘n hele nuwe bedeling inlui waarin die mensdom wêreldwyd deur die krag van die dwaling mislei sal word om die Antichris na te volg en te aanbid. Die kwaad sal dan tot sy volle ontplooiing kom en dit sal ‘n tyd van ongekende demoniese aktiwiteit wees (Op. 12:12). In teenstelling hiermee sal die kerk wat weggeraap is, met verheerlikte opstandingsliggame beklee word om die goeie ten volle te ken. Hulle sal Jesus Christus van aangesig tot aangesig sien en nooit weer van Hom geskei word nie (1 Thess. 4:16-17).

7. Die bedeling van die koninkryk

In die duisendjarige vrederyk sal die ware gelowiges van alle tye saam met Christus in sy koninkryk regeer (Op. 5:10; 20:6). As verheerlikte wesens sal hulle nie meer aan pyn, droefheid, ellende en die dood onderworpe wees nie, en ook nie meer deur ander vorms van onvolmaaktheid geteister en beperk word nie. Hulle kennis van God sal volmaak wees. In daardie tyd sal die geestelik herstelde Israel die lof van die Here oral verkondig, en die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Jes. 11:9). Die duiwel sal gebind wees (Op. 20:2-3) en die Here se vrede en geregtigheid oral op aarde heers.

8. Die bedeling van die ewigheid

In die ewigheid, in die nuwe hemel en op die nuwe aarde, sal daar nooit weer iets inkom wat verontreinigend of sondig is nie (Op. 21: 27). Volmaakte vrede en vreugde sal heers wanneer die gelowiges vir altyd in die teenwoordigheid van God leef. Die poel van vuur sal ook vir ewig bestaan waar Satan, sy demone, en alle misleides van alle eeue vir ewig die straf vir hulle rebellie teen God sal ondergaan (Op. 14:9-11; 20:15; Dan. 12:2). Daar sal nooit weer in die dieselfde plek, soos tans op aarde, ‘n naasbestaan van die koninkryke van die lig en die duisternis wees, waar hulle in ‘n stryd teen mekaar gewikkel is nie. Satan se koninkryk sal totaal vernietig word, en hy en die miljoene gevalle engele, asook die ongeredde sondaars, sal vir ewig in die poel van vuur gestraf word.

Dispensasionele kennis

Dit is nodig dat ons as Christene die aard van die verskillende dispensasies in die Bybel goed sal ken. Dit was vir die mense van elke bedeling noodsaaklik om die grootste moontlike kennis van goed en kwaad te hê sodat hulle God kon behaag en die regte besluite kon neem om geestelik in die stryd teen sonde en boosheid te oorwin. Die Here het reeds vroeg in die bedeling van die gewete die aard van hierdie stryd, en die noodsaaklikheid om die regte dinge te doen, aan Kain verduidelik (Gen. 4:7). Hy het egter tot sy eie nadeel en ondergang die kennis van die Here verwerp, nie in sy weë gewandel nie en as gevolg hiervan noodwendig die verkeerde dinge gedoen. Omdat hy, soos alle ander mense, ‘n vrye wil gehad het, was alle opsies vir hom oop.

In die bedeling van die wet het die Here Homself op ‘n besondere manier aan Israel geopenbaar (Ex. 20). Israel het egter gou die insettinge van die Here vergeet en geestelik op die dwaalweë van Satan beland. Hierdie afdwalings was die direkte gevolg van ‘n gebrek aan die kennis van God en sy heilige wil (Hos. 4:1,6). Uit hierdie toestand van afvalligheid is hulle telkens tot bekering opgeroep (Jer. 4:1; 18:11; Hos. 14:2).

In die kerkbedeling is dit ook van kardinale belang dat ons vervul moet wees met die kennis van God se wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat ons waardig voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en in elke goeie werk vrug te dra en in die kennis van God te groei (Kol. 1:9-10; Joh. 8:31-32). God self is waarheid, Jesus is waarheid, die Heilige Gees is die Gees van waarheid en Hy sal ons in die hele waarheid van die Woord lei (Joh. 17:17; 14:6; 16:13). Hoe goed ken jy hierdie waarheid? Sonder ‘n deeglike kennis van goddelike waarhede sal jy nie volkome daarin kan wandel nie en derhalwe nie in alle opsigte die wil van God in jou lewe volbring nie.

In die komende verdrukking sal die kennis van God en sy Woord só skaars op die aarde wees (Amos 8:11-12) dat mense verkeerdelik die Antichris vir Christus sal aansien en hom sal dien en aanbid (Op. 13:4,8). As ons nie in die genade en kennis van Christus toeneem nie (2 Pet. 3:18), sal ons ook slagoffers van Satan se gees van misleiding word.

Persoonlike toewyding

Wat ‘n voorreg om ‘n Bybelse perspektief op God se raadsplan te hê. In die lig daarvan besef ek dat ons nou in die tyd van die groot afval leef, waarin alles in die stryd gewerp moet word om teen die dwalings van Satan staande te bly. Ek dank die Here dat sy Woord en Gees tot ons beskikking is om aan ons insig te gee en in die kennis van God te laat groei (Ef. 1:17-18; Kol. 1:9-10) Dit is ons eie skuld as hierdie kennis en geestelike krag in ons lewe ontbreek (Matt. 22:29). In ‘n tyd soos hierdie, wanneer ons baie naby aan die einde van die kerkbedeling is, moet ons duidelike kennis oor ons tydsomstandighede hê, sodat ons nie in ons liefde verkoel wanneer die ongeregtigheid toeneem nie (Matt. 24:12). Ons moet ook van die verborgenheid van Satan se ongeregtigheid kennis dra omdat ons dit aktief moet teëstaan (2 Thess. 2:7). Mag die Here ons waaksaam en biddend aantref wanneer Hy kom (Luk. 21:36), en ook besig met die werk van evangelisasie wat Hy aan al sy dissipels opgedra het.

Vrae

1.    Hoe het die mense voor die bedeling van die wet tussen reg en verkeerd onderskei?

2.    Wat behels die bedeling van die wet?

3.    Wat is die bedeling van genade en waarom weet ons meer as in die OT?

4.    Hoe verskil die kerkbedeling en die koninkryksbedeling van mekaar?

5.    Wat is die belangrikste kenmerke van die Antichris se regering?

6.    Waar gaan mense die ewigheid deurbring, en het hulle enige keuse hieroor?

 

16. Die Hemel en die Hel

In die Bybel is daar baie duidelike uitsprake oor die hemel én die hel.

Die hemel

Daar is drie hemele. Daar is in die Bybel verwysings na drie hemele: (1) Die atmosfeer rondom die aarde, waarin die voëls van die hemel vlieg (Jer. 4:25; Eseg. 38:20; Hos. 2:17; Matt. 6:26; 13:32). (2) Die sterrehemel (Ps. 8:4; Eseg. 32:7; Matt. 24:29; Op. 8:10). (3) Die derde hemel, wat die hoogste hemel is waar God woon (Luk. 2:14; 2 Kor. 12:2-4; Ef. 4:10).

Dit is die woonplek van die Drie-enige God: God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. (Deut. 26:15; Pred. 5:1; Matt. 5:16; Luk. 24:51; Hand. 7:55-56; Ef. 6:9; Kol. 4:1; 1 Thess. 1:10, 4:16; 2 Thess. 1:7; Heb. 8:1; 1 Pet. 1:12; 1 Joh. 5:7).

Dit is ook die woonplek van die engele. (Matt. 22:30; Luk. 2:15, 22:43).

Die koninkryk van die hemel. Hierdie koninkryk heers oor die ganse heelal, en word beheer van die troon van God af wat in die hemel is (Ps. 103:19; Hand. 7:49). Die Here Jesus sit aan die regterhand van die Vader (Mark. 16:19; Rom. 8:34; Ef. 1:20; Kol. 3:1; Heb. 1:3; 1 Pet. 3:22).

Seën én oordeel kom uit die hemel. Die Here verskaf aan sy kinders geestelike voedsel uit die hemel in die vorm van sy Seun, en sy Woord (Joh. 6:31-35; Luk. 4:4). Christene wat die goddelike voorskrifte van die Woord oortree, sondig teen die hemel (Luk. 15:18,21). Oordele word ook uit die hemel op die goddeloses uitgestort (Luk. 17:29; Rom. 1:18).

Die Christene het ‘n hemelse bestemming. Ons burgerskap is in die hemel (Fil. 3:20) omdat ons name ook daar opgeskryf is (Luk. 10:20). Die Here Jesus het in sy vaderhuis, die hemelse stad wat die nuwe Jerusalem genoem word, vir ons ‘n ewige tuiste gaan berei (Joh. 14:2-3; Op. 3:12; 21:1-2). Dit is deel van ons hemelse erfenis (1 Pet. 1:4), en is onbeskryflik mooi (1 Kor. 2:9).

Hemelse skatte. Loon sal in die hemel aan diegene gegee word wat op aarde verdrukking ter wille van Christus verduur het (Luk. 6:22-23). Hulle word aangemoedig om ook op ander maniere vir hulle skatte in die hemel bymekaar te maak deur die werk van die Here finansieel te ondersteun en dinge te doen wat ewigheidswaarde het (Luk. 12:21,33; 18:22; 2 Kor. 8:9; 9:6-7).

Blydskap in die hemel. Daar is blydskap in die hemel oor elke persoon wat gered word en sodoende ‘n lid van hierdie wonderlike koninkryk word (Luk. 15:7). Die blydskap van die heiliges sal volkome wees wanneer hulle met hemelse opstandingsliggame beklee sal wees, wat ver bokant die beperkings van hulle aardse bestaan verhewe is (2 Kor. 5:1-2; Fil. 3:21).

Die hel

Die Here Jesus het meer oor die hel gesê as enige ander prediker in Bybelse tye. Sy waarskuwings oor die verskriklike gevolge van sonde is die reguitste en skerpste in die hele Bybel. Lees stellings deur Jesus oor die hel in: Matt. 5:22; 10:28; 13:40-42,49-50; 23:33; 25:41,46; Mark. 9:43-49; Luk. 16:19-31.

Jesus praat van die hel as ‘n plek waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie (Mark. 9:48). Ons word ook meegedeel dat die hel ‘n ewige vuurpoel is wat met swawel brand (Op. 14:10-11; 19:20). Die ryk man in die hel het geweet dat hy nie net in een of ander geestelike toestand verkeer nie, want hy wou sy broers laat waarsku dat hulle nie ook “in hierdie plek van pyniging kom nie.” Die hel is dus nie ‘n toestand nie, dit is ‘n plek. Dit word duidelik as ‘n plek van liggaamlike smarte beskryf (Luk. 16:22-28). Die ongeredde dooies sal met die tweede opstanding uit hulle grafte opstaan, in veroordeling voor God verskyn, en dan vir ewig in die poel van vuur gewerp word (Dan. 12:2; Op. 20:11-15). Die ongereddes sal dus net so seker as die gereddes uit die dood opgewek word (Joh. 5:28-29).

Dit is van fisiese liggame in die hel wat die Here Jesus gepraat het toe Hy gesê het dat sondaars in die helse vuur gewerp sal word (Matt. 18:8-9), daarom moet ons God vrees omdat Hy mense tot die hel sal veroordeel (Matt. 10:28). Die duiwel het egter mense wat God se Woord nie ken nie, mislei om te glo dat die hel ‘n onwerklike, spookagtige plek is waar daar wél ‘n bietjie ongerief verduur sal word, maar nie bewuste lyding en fisiese smarte nie. Sodoende word alle vrees vir die oordele van God by mense weggeneem. Mag die Here ons help om te besef dat die geweldigste marteling op die verdoemde siele wag wat Christus as Verlosser verwerp het en as gevolg daarvan hel toe sal gaan.

Die woorde wat in die Bybel oor die hel en die verdoemenis van verlore mense gebruik word, is nie woorde met ‘n betekenis van tydelikheid nie. Hulle dui almal ‘n ewigheid van smarte aan (Dan. 12:2; Mark. 3:29; Op. 14:10-11). Hoe diep moet ‘n Christen nie geraak wees wanneer hy aan die hel dink, en al die miljoene wat daarheen op pad is nie! Dit is geen wonder dat die moderne Christendom hulle passie vir die redding van sondaars verloor het nie: hulle het die Bybelse leer oor die hel vergeet. Predikers het die foltering van die verdoemdes wegverklaar! Hoe sterk moet ons motivering vir gebed, prediking en sielewenning nie wees nie wanneer ons daaraan dink dat elke verantwoordelike mens wat hierdie aarde sonder ‘n besliste hartsverandering verlaat, sy oë in die ryk van die verdoemdes sal oopmaak, onderweg na die ewige poel van vuur.

Ongelowiges sê graag dat hulle wat swak, sondige mense is, nie hulle kinders hel toe sal stuur nie, en dat as God sy kinders liefhet, Hy hulle ook nie hel toe sal stuur nie. Die ongeredde sondaars is egter nie God se kinders nie. Niemand is ‘n kind van God voordat hy weergebore is nie. Die ongeredde mense is die kinders van die toorn. Jesus het aan die Fariseërs gesê: “Julle het die duiwel as vader” (Joh. 8:44). God se kinders gaan nooit hel toe nie, maar die duiwel se kinders gaan wél. Hoe dwaas is dit nie om God van verkeerde optrede te beskuldig omdat mense hel toe gaan. Die hel is die gevolg van mense se sonde. Hulle gaan hel toe omdat hulle behoort te gaan, en nie omdat God hulle haat nie. Sonde is ‘n gehate onderwerp vir diegene wat nie van die Bybelse leer oor die hel hou nie, omdat sonde die oorsaak van die hel is (Rom. 6: 23; Eseg. 18:4).

Die Here Jesus het gesê dat ‘n mens se siel meer werd is as al die skatte van die wêreld (Mark. 8:36-37). Sondaars het alles verloor as hulle hul siele verloor het. Ongelukkig is die meeste mense na hierdie grusame bestemming op pad (Matt. 7:13-14). Die vormgodsdienstiges en valse profete sal baie verbaas wees om hulle oë hier oop te maak (Matt. 7:21-23).

Ongeredde mense is altyd boos, maar bestempel graag mekaar as baie goed en opreg. Die Bybel beskryf egter die verdorwe toestand van die natuurlike mens in duidelike terme (Jes. 53:6; Jer. 17:9; Mark. 7:21-22; Rom. 3:10,23). Die ryk man het verdien om hel toe te gaan. Hy was ‘n sondaar. Uiterlik mag hy ordentlik, opreg, intelligent en aangenaam gewees het. In sy hart, waar net die Here kan sien, was hy egter ‘n opsetlike, slegte, hardkoppige, aanhoudende en onbekeerlike sondaar teen God. Onthou dat dit verfynde, geleerde, beskaafde, godsdienstige en biddende manne was wat Christus oorgelewer het om gekruisig te word. Hulle was wolwe in skaapsklere. Wat die Here Jesus van hulle gesê het, beskryf die hart van die beste morele mens wat nie sy vertroue vir redding in Christus gestel het nie (Matt. 23:13,27-28).

Mense wat nie ‘n hartsverandering ondergaan het nie, mag vir ons moreel, skoon of goed lyk, maar dit is net uiterlik so. Die Here, wat die harte van mense ken, weet van die ongeredde hart wat daar in só ‘n mens skuil. Dit was om hierdie rede dat Hy vir Nikodémus, een van die ongeredde godsdiensleiers van Israel, gesê het dat hy weergebore moet word (Joh. 3:3). Jesus het verduidelik waarom sondaars tot bekering moet kom as hulle nie op ‘n ewige verdoemenis wil afstuur nie (Joh. 3:19-20). Die beste bewys van ’n persoon se bose hart is die feit dat hy nog nie na Christus gekom het nie. Die enigste eerlike rede wat enige persoon kan gee waarom hy nog nie na Jesus gekom het nie, is dat hy die sonde liefhet en nie na die Lig wil kom sodat sy sonde bestraf kan word nie. Mense sonder God mag aangename en fyn beskaafde mense wees, maar wat die innerlike mens betref, is hulle beslis nie goed nie. Hulle is sleg omdat hulle dit verkies.

Die verlore persoon se hart is boos genoeg om vir Christus, die Lig van die wêreld, te haat. Mense verwerp Christus doelbewus omdat hulle sonde liefhet. As hulle nie tot bekering kom nie, gaan sulke bose sondaars hel toe. Jesus het gesê dat dit ‘n tevergeefse poging is om God én die sondige wêreld lief te hê, omdat niemand twee here kan dien nie (Matt. 6:24). Die ryk man is nie hel toe omdat hy uiterlik ‘n slegte lewe gelei het nie. Die Bybel sê nie dat hy owerspel of moord gepleeg het, gedobbel, gedrink of gevloek het nie. Sy probleem was innerlik. Soos alle ongeredde mense het hy ‘n bose hart gehad. In sy verborge hart was hy teen God. Onthou dat hy nie hel toe gegaan het omdat hy ryk was nie. Daar is meer arm mense as ryk mense in die hel. Hy is daar omdat hy nie gered is nie! Hy het geweet dat sy broers gered moes word om die hel vry te spring. Hy het dus geweet dat hy in die hel is omdat hy ongered is (Luk. 16:30). Die Here wil nie hê dat enige sondaar verlore gaan nie (Joh. 3:17; 2 Pet. 3:9; 1 Tim. 2:3-4; Eseg. 33:11; Joh. 3:16). Bekeer jou vandag nog tot die Here Jesus en ontvlug sodoende die oordeel van die hel!

Persoonlike toewyding

Ek besef opnuut dat die ewige hemelse vreugde op die gereddes wag, en die ewige straf van die hel op al die ongereddes. Die smal pad lei na die hemel, terwyl die breë pad onwrikbaar op die poel van vuur afstuur. Ek verbind myself by hernuwing aan die groot opdrag om die boodskap van die Here Jesus se reddende genade aan ‘n verloregaande wêreld te verkondig, sodat meer mense uit die koninkryk van die duisternis na die koninkryk na die lig kan oorkom. Hoeveel vormgodsdienstiges is daar nie, wie se lewens op valse fondamente gebou is. Ook hulle moet die waarskuwing aan Nikodémus ernstig ter harte neem dat geen mens die koninkryk van God sal sien as hy nie weergebore is nie. As ons die goddeloses nie waarsku nie en hulle gaan verlore, sal die Here hulle bloed van ons hand eis (Eseg. 33:7-9). Laat ons die Woord van die Here só verkondig dat mense sal besef wat in die ewigheid op hulle wag. Dit is ondenkbaar om ‘n ewigheid in die poel van vuur deur te bring, terwyl die Here Jesus se reddende genade aan almal gebied word.

Vrae

1.    Van hoeveel hemele praat die Bybel?

2.    Wie kan daarvan seker wees dat hulle ‘n huis in die hemel het?

3.    Watter soort straf sal sondaars in die hel ondergaan, en hoe lank sal dit duur?

4.    Waarom sal ‘n liefdevolle God mense hel toe stuur?

5.    Hoe kan mense uit die hel gehou word?

 

17. Tekens van die Tye

Daar is baie profetiese inligting in die Bybel oor gebeurtenisse wat gedurende en voor die wederkoms van Jesus Christus sal plaasvind. Hierdie tekens van die tye help ons om die ontvouing van God se raadsplan vir die mensdom te kan verstaan, sodat ons beter vir die toekoms gereed kan wees. Die Here verwag van ons om op hierdie tekens ag te slaan, omdat hulle boodskap net so duidelik soos dié van tekens in die natuur is (Luk. 12:54-56). Die Israeli’s weet dat wanneer wolke uit die weste van die Middellande See af opkom, dit gaan reën. Wanneer ‘n warm suidewind van die Negef-woestyn se kan af waai, weet hulle dat dit ‘n baie warm dag gaan wees. Diegene wat nie die tekens van die tye in ag neem nie, word skynheiliges genoem – geestelik verblinde mense wat onkundig is oor dit wat die Here deur die baie duidelike vervulling van Bybelse profesieë aan hulle meedeel.

Daar is nogtans ‘n verrassingselement aan die wegraping verbonde omdat die meeste tekens hulle finale vervulling in die sewe jaar van die verdrukking, tussen die wegraping en die wederkoms van Christus, sal hê. Hierdie tekens sal nogtans meer prominent begin raak namate ons nader aan die tyd van die wegraping kom, wat die geheime koms van die hemelse Bruidegom is om die ware gelowiges van die aarde af weg te neem (Luk. 21:36; Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-17). Ons moet dus in staat wees om die vroeë begin van hierdie tekens te kan raaksien, omdat dit daarop dui dat die tyd vir ons vertrek op hande is (Luk. 21:28). Die volgende is die belangrikste tekens van die eindtyd:

1. Die herstel van Israel

Die Here het beloof dat Hy Israel in die laaste dae uit die nasies sal versamel waarheen hulle getrek het, en na hulle eie land bring (Hos. 3:5; Jer. 23:8; 31:8-11; Eseg. 36:22-25; 37:21). ‘n Baie belangrike aspek van hulle herstel is die status van die stad Jerusalem. Volgens Lukas 21:24 sou Jerusalem deur die nasies vertrap word totdat die tye van die nasies vervul is. Die fisiese verowering van Bybelse Jerusalem (die Ou Stad) het in 1967 in die Sesdaagse Oorlog plaasgevind. Dit was die voorspel tot die stad se politieke herstel as Israel se ewige en onverdeelbare hoofstad in Augustus 1980. Laasgenoemde gebeurtenis het die laaste geslag van die huidige bedeling ingelui (Luk. 21:32). Volgens die Bybel sal daar ‘n hewige eindtydse stryd vir die beheer oor Jerusalem wees (Sag. 12:2-3; 14:2), omdat Jesus Christus met sy wederkoms na hierdie stad toe terugkeer (Sag. 14:4-5). Sy vyande sal Hom hier inwag, maar in die daaropvolgende oorlog sal hulle vernietig word (Sag. 14:12-13). Gebeure in Israel is baie belangrike tekens van die tye.

2. Die Russies-Arabiese inval in Israel

In Esegiël 38 en 39 word ‘n Russies-Arabiese inval in Israel beskryf. Die vors van Rusland word Gog genoem en sy land Magog. Dit is ‘n antieke naam vir moderne Rusland, omdat dit na die groot gebied noord van die Kaukasiese Berge en die Swartsee verwys. Die belangrikste bondgenote van Rusland word geïdentifiseer as Persië (die huidige Iran), Kus (die huidige Ethiopië), Put (die huidige Libië) Gomer (die huidige Duitsland) en Togarma (die huidige Turkye). Dit word duidelik gestel dat hulle Israel in die laaste dae sal binneval (Eseg. 38:4-8,16). In Esegiël 39 word die vernietiging van Gog en sy menigtes beskryf.

3. Die herstel van Babilon

Openbaring 18 verwys na ‘n stad met die naam van Babilon. Dit is dieselfde stad wat in antieke tye bestaan het, en wat in die eindtyd weer herbou en na sy eertydse roem herstel sal word. As die geboorteplek van die Ou Wêreld se heidense gelowe, moet hierdie stad weer as die vesting van ‘n valse wêreldgodsdiens na vore tree. Babilon is op die walle van die Eufraatrivier in Irak geleë. Dit is geen toeval dat twee van die laaste ses hoofstukke in die Bybel aan Babilon gewy word nie. In Openbaring 17 word verborge Babilon beskryf en as die moeder van die hoere geïdentifiseer. Dit is ‘n aanduiding dat al die valse gelowe wat in Babilon ontstaan het, in die eindtyd in ‘n enkele ekumeniese liggaam gestalte sal aanneem (Op. 17:1-6). Die herstelde stad Babilon sal hulle finale tuiste wees. Die herstelde handelstad, Babilon, word in Openbaring 18 beskryf. Die stad móét herbou word, sodat dit in die komende verdrukking finaal vernietig kan word (Jes. 13:19-22; Jer. 51:61-64; Op. 18:1-2, 8-10, 17-21).

4. Die herstelde Romeinse ryk

Die antieke Romeinse ryk moet in die eindtyd ook as ‘n magsbasis van die Antichris opgebou word. In die beeld van Daniël (Dan. 2:31-45) word die Romeinse ryk deur die bene en tien tone voorgestel. In die naggesigte van Daniël is die wreedaardige dier met die tien horings op sy kop ook ‘n aanduiding van die Romeinse ryk, waaruit die Antichris sal kom (Dan. 7:7-8,19-26). Die simboliek van die dier met die tien horings word ook in Openbaring 13:1-2 aangetref, waar die Antichris beskryf word. Uit hierdie profesieë is dit duidelik dat die Romeinse ryk weer sal herleef. Dit sal lande uit Wes-Europa, Oos-Europa, die Midde-Ooste en Noord-Afrika insluit. Die Europese Unie is besig om vinnig uit te brei en sal die herstelde Romeinse ryk wees.

5. Die nuwe wêreldorde

Die Antichris sal die hoof van ‘n nuwe wêreldorde wees wat alle lande sal insluit. Hy sal ‘n wêreldryk instel wat op politieke, godsdienstige én ekonomiese magsbasisse sal berus (Op. 13:2,4,7,16-18). Die huidige nuwe wêreldorde wat op globalisasie ingestel is, baan die weg na hierdie toekomstige dispensasie.

6. Godsdienstige misleiding

In die laaste dae sal valse leerstellings wat deur duiwels bevorder word, rampspoedige gevolge in baie Christelik kerke hê (1 Tim. 4:1). Godsdienstige dwalings sal geweldig toeneem (2 Tim. 4:3-4; Matt. 7:21-23; 24:11,24; 2 Kor. 11:2-4; Gal. 1:6-9; 1 Joh. 4:1). Dit is duidelik dat valse profete baie populêr sal wees en beheer oor die meeste kerke sal kry (Matt. 24:4-5; 2 Pet. 2:1-2). Dit berei die weg voor vir ‘n tyd waarin die hele wêreld in verwondering agter ‘n valse godsdiensleier sal aangaan en hom as die hoof van ‘n wêreldregering sal aanstel (Op 13:3-4,11-15).

7. Morele verval

Ernstige morele verval sal in die eindtyd voorkom (2 Tim. 3:1-5). Baie Christene sal ook negatief deur hierdie golf van immoraliteit  beïnvloed word (Matt. 24:12). Dit sal soos die tyd van Noag en Lot wees, toe boosheid, geweld en homoseksaulisme aan die orde van die dag was (Matt. 24:37).

8. Natuurrampe

In die eindtyd sal daar ‘n groot toename in natuurrampe soos aardbewings , droogtes, lug- en waterbesoedeling, hittegolwe, ongekende haelstorms, brandende brokstukke van hemelliggame wat op die aarde en in die see sal val en groot golwe sal veroorsaak (Matt. 24:7; Op. 6:12-13; 8:8-12; 11:6; 16:4,8,18-21). Die tsunami in Suidoos-Asië op 26 Desember 2004 was een van die ergste natuurrampe tot op datum. Dit is deur ‘n geweldige aardbewing op die seebodem veroorsaak. In die komende verdrukking sal natuurrampe grootliks toeneem en paniek onder mense veroorsaak (Luk. 21:25-26).

9. Hongersnood en pessiektes

Hongersnood en pessiektes sal in die verdrukking algemeen voorkom (Matt. 24:7) en baie sterftes tot gevolg hê. Kos sal baie skaars en duur wees. Pessiektes verwys na epidemies wat buite beheer sal toeneem. HIV/vigs kan een daarvan wees.

10. Oorloë

Die verdrukking sal ‘n tyd van ongekende oorloë wees, wat uiteindelik op die slag van Armageddon sal uitloop (Matt. 24:6-7; Op. 6:4,8; 16:13-14,16; 19:19-21; Sag. 14:2-3,12-13). ‘n Groot invalsmag uit die Ooste, waarskynlik Sjina en sy bondgenote, word ook beskryf (Op. 9:13-19).

11. Wêreldevangelisasie

Een teken van die eindtyd wat van ‘n positiewe aard is, is wêreldevangelisasie. Voordat die einde kom, moet die evangelie oral in die wêreld verkondig word (Matt. 24:14). Alle Christene moet hulleself aan die uitvoering van hierdie taak wy (Luk. 14:23).

Die toorn van God

Die tekens van die tye toon duidelik aan dat die God van liefde wat alle mense wil red (1 Tim. 2:3-4), ook ‘n God van toorn is wat onbekeerlike sondaars swaar sal straf (Heb. 2:3; 1 Thess. 1:10). Ons moet nie net sekere attribute van God ten koste van ander beklemtoon nie, want dan kan ons by ‘n “ander Jesus” uitkom wat ‘n uitvindsel van mense is (2 Kor. 11:4) en gevolglik nie getrou aan die Bybel nie. God wil nie hê dat sommige mense moet vergaan nie, maar dat almal gered sal word (2 Pet. 3:9). Hy sal egter sondaars oordeel wat weier om tot bekering te kom.

In die komende verdrukking wanneer die toorn van God oor die wêreld uitgestort sal word, sal die meeste van die geharde sondaars nóg boser word en selfs vir God laster oor die plae (Op. 9:20-21). Hulle sal aan God geen keuse laat as om hulle te oordeel nie. Ons opdrag is om op die tekens van die tye ag te slaan, wat aantoon dat die meerderheid van die wêreldbevolking in die eindtyd boser, selfsugtiger, meer immoreel, gewelddadig, onbetroubaar en God-verwerpend sal raak. Ons moet daarteen waak om nie by hierdie ongebonde groepe van die eindtyd in te skakel nie (Rom. 13:12-14). Die wêreld stuur op sy donkerste uur af, en ook ‘n groot verdrukking soos daar nog nooit was nie (Matt. 24:21-22). Soos in die tyd van Noag en Lot, bly die beginsel egter vasstaan dat God se toorn nooit oor ware gelowiges uitgestort word nie (Luk. 21:36).

Persoonlike toewyding

Die tekens van die tye spreek my aan om vir die koms van die hemelse Bruidegom gereed te maak. Deur sy genade sal ek die oordele oor ‘n sondige wêreld ontvlug, net so seker as wat Noag en Lot die oordele oor die goddeloses van hulle tyd ontvlug het. Ek hou aan hierdie belofte vas, daarom het ek ‘n Christus-verwagting en nie ‘n Antichris-verwagting nie. Wanneer die ware kerk van Christus (die wyse maagde) weg is, sal die Antichris sonder teëstand geopenbaar kan word om sy massamisleiding en skrikbewind op aarde te vestig. Ek besef dat ek in ‘n tyd soos hierdie meer as ooit tevore teen geestelike afvalligheid en morele sondes moet waak (Matt. 24:12), omdat die krag van misleiding baie sterk is. Die gees van misleiding is daarop ingestel om Christene van die geloof afvallig te maak (1 Tim. 4:1). Deur die tekens van die tye waarsku die Here ons om getrou aan Hom te bly, vir sy skielike koms gereed te maak, en die oorblywende tyd ten beste te benut om andere te waarsku teen die oordele van God wat aan die kom is. Die Here wil ons met sy werk besig vind (Matt. 24:45-47).

Vrae

1.    Wat is die betekenis van Israel as ‘n teken van die eindtyd?

2.    Wie is die vyande wat Israel volgens Esegiël 38 sal inval?

3.    In watter opsig speel die Europese Unie ‘n rol in die vervulling van Bybelse profesieë?

4.    Wat is die nuwe wêreldorde en wat is die drie magsbasisse daarvan?

5.    Beskryf die morele en geestelike standaarde wat in die eindtyd sal heers.

 

18. Die Wederkoms van Christus

Om die wederkoms reg te kan verstaan moet die twee fases daarvan duidelik onderskei word, naamlik Christus se koms vir sy heiliges en sy koms met sy heiliges. Gedurende die eerste fase kom die hemelse Bruidegom baie onverwags, soos ‘n dief in die nag, om sy bruid te kom haal. Hy ontmoet haar in die lug en voer haar vinnig na hemelse plekke weg (Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-17; 1 Thess. 5:2). Tydens hierdie ontmoeting word die ware Christene weggevoer of weggeraap, die Here tegemoet in die lug (1 Thess. 4:17). Gedurende die tweede fase kom Christus in die openbaar sodat elke oog Hom sal sien. Hy word vergesel van sy bruid, asook ‘n hemelse leërskare, en sit by daardie geleentheid sy voet op die Olyfberg neer (Sag. 14:4-5; Op. 19:11-15).

Verheerliking en wegvoering

Die verheerliking van Christene begin op daardie oomblik wanneer die basuin van God sal blaas. Die ontslape heiliges sal dan uit die dode opgewek en die lewende heiliges in ‘n oomblik verander word om almal saam hulle verheerlikte liggame te ontvang (1 Kor. 15:51-53). Wanneer dit gebeur, sal ons met betrekking tot ons verheerlikte liggame aan Christus gelyk wees (1 Joh. 3:2) – in rang bly Hy steeds by verre ons meerdere omdat Hy die Hoof van die gemeente is (Ef. 5:23). Wanneer Hy skielik in ons midde verskyn, word ons in ‘n oomblik met onverganklike hemelse liggame beklee en sodoende in onsterflike hemelse wesens verander. ‘n Nuwe dimensie van bestaan word dan betree (Fil. 3:20-21).

Onmiddellik nadat die ontslape én lewende heiliges met verheerlikte liggame beklee is, word hulle van die aarde af weggevoer na die hemel toe om vir ewig in die teenwoordigheid van die Here Jesus te wees (1 Thess. 4:15-18). Let daarop dat hierdie ontmoeting in die lug sal plaasvind en dat slegs Christene daarby betrokke sal wees. Die Here Jesus sit nie in hierdie stadium sy voet op die Olyfberg neer nie, maar keer onmiddellik met sy bruid wat Hy kom haal het, na sy Vaderhuis in die hemel terug. Die woord “weggevoer” in 1 Thess. 4:17 (Gr. harpazo) beteken “om vinnig weggeruk” of “weggeraap” te word.

‘n Begrip wat baie nou met die wederkoms in verband staan, is dié van die eerste opstanding. Tydens die wegraping kom die Here Jesus net om die regverdiges te kom haal (1 Thess. 4:16). Hier word hoegenaamd niks van die opstanding van die goddeloses gesê nie. Aangesien ‘n eerste opstanding ook ‘n tweede impliseer, en aangesien ons weet dat die regverdiges én onregverdiges opgewek sal word, is dit duidelik dat die goddeloses eers tydens ‘n latere opstanding opgewek sal word. In Openbaring 20 word gesê dat die twee opstandings ‘n duisend jaar uitmekaar is. Johannes verwys na Christenmartelare wat in die eerste opstanding opgewek sal word om in die duisendjarige vrederyk op aarde as konings saam met Jesus Christus te regeer (Op. 20:4-6).

Ontvlugting

Uit die oogpunt van omstandighede op aarde sal die wegraping vir Christene ‘n ontvlugting uit dreigende oordele wees. Dit sal ‘n donker tyd van geweldige geestelike misleiding wees. Die evangeliese Christene sal as onbybels en liefdeloos bestempel en geminag word. Hulle sal as doemprofete beskou word omdat hulle die naderende oordele van God verkondig, wat in die groot verdrukking oor die aarde sal kom. Hulle sal nie as “polities korrek” beskou word nie omdat hulle nie die hervormings van die nuwe wêreldorde sal aanvaar nie; maar hulle sal wél volgens die Bybel “profeties korrek” in hulle siening wees. Namate die dag vir die openbaring van die Antichris nader kom, sal hierdie mense aan geweldige druk, intimidasie en dreigemente onderwerp word. Indien hulle egter getrou aan hulle beginsels bly, sal die Here Jesus hulle saam met die ander ware gelowiges kom haal en sodoende die oordele op aarde en verdrukking onder die bewind van die Antichris laat ontvlug (Luk. 21:36).

Die Here bied duidelik aan jou ontvlugting uit die komende oordele op aarde. Die groot verdrukking is beslis ‘n tyd van goddelike toorn. Wanneer die kragte van die hemele geskud word en mense se harte beswyk van vrees en verwagting, sal hulle paniekbevange na die berge toe vlug en om hulp na die rotse uitroep (Op. 6:16-17). As jy waak en bid en geestelik waardig is, sal jy hierdie oordele ontvlug (Luk. 17:34-36). God het nog nooit in die geskiedenis sy oordele oor die gelowiges uitgestort nie.

Hoewel die wegraping as gevolg van sy aard en omvang uniek sal wees, was daar al verskeie goddelike ingrypings vir die behoud van gelowiges in tye van oordeel. In die dae van Noag het God sy oordele oor ‘n bose, gewelddadige en moreel verdorwe geslag mense aangekondig (Gen. 6:5-14). Pas voor die uitstorting van goddelike toorn is die gelowiges deur middel van die ark in ‘n plek van veiligheid gestel. Die Here het self die deur agter hulle toegesluit voordat Hy Homself in oordeel tot die sondaars gewend het (Gen. 7:16-23). Daar was eers uitredding en daarna oordele.

In die tyd van Lot het daar ook ‘n uitreddingsaksie plaasgevind. Hulle het in die nag voordat Sodom en Gomorra vernietig is, ‘n dringende opdrag gekry om die rampgebied te ontruim. Die twee engele het ook gesê dat hulle niks kon doen solank Lot en sy gesin nog daar was nie. Kort nadat hulle vertrek het, het vuur en swawel op die goddeloses gereën (Gen. 19:13-17, 22-25). Daar is ‘n duidelike korrelasie tussen hierdie gebeure en God se handelswyse met die eindtydse gelowiges nét voor die sewe jaar lange verdrukking (Luk. 17:26-30).

Nadat Christus die ware gemeente in die geheim weggevoer het, sal Hy van die troon af oordele oor ‘n goddelose wêreld uitstort (Op. 6 tot 19). Die verheerlikte kerk sal dan rondom sy troon vergader wees (Op. 4:4, 5:9-10). Aan die einde van die sewe jaar van verdrukking sal Jesus Christus mét sy verheerlikte kerk terugkeer aarde toe en hier ten aanskoue van almal geopenbaar word (Sag. 14:4-5; Kol. 3:4). Dit sal die tweede fase van sy koms wees.

Sy sigbare verskyning

Tydens die slag van Armagéddon, op die laaste dag van die groot verdrukking, sal Jesus Christus op ‘n wit perd op aarde verskyn, gevolg deur ‘n hemelse leër en al sy heiliges, en tot die stryd teen sy vyande toetree (Op. 19:11-21). Sy wederkoms sal soos die weerlig van oral af gesien kan word, maar fisies kom Hy na Jerusalem terug (Sag. 14:4-5). By daardie geleentheid sal die duisternis van God se oordele oor die aarde toesak. Die Here sal sy vyande tref met die swaard wat uit sy mond uitgaan. Hy sal net ‘n woord spreek wat tot hulle ondergang sal lei. In die verwarring en duisternis sal hulle mekaar begin doodmaak (Sag. 14:2-4, 12-13). Dan sal hulle ervaar dat dit vreeslik is om te val in die hande van die lewende God (Jes. 13:9-12; Joël 2:1-2,11, 3:1-2), omdat hulle dwaas genoeg was om teen Hom oorlog te verklaar (Op. 19:19).

Die Antichris en die valse profeet sal op die dag van Christus se wederkoms gevang en lewendig in die hel gewerp word (Op. 20:19-20). Hierdie konfrontasie sal volgens Joël 3 in die dal van Jósafat plaasvind, wat die Kidronvallei tussen die Olyfberg en die Tempelberg is. Hierna sal Satan vir 1000 jaar in ‘n put gebind word (Op. 20:1-3). Die beskrywing van die binding van die duiwel vorm ‘n eenheid met die gebeure in Openbaring 19, en is dus een van die gevolge van die wederkoms van Jesus. Dit vind net ná die finale oordeel oor die Antichris en die valse profeet plaas, en is nie ‘n gebeurtenis wat van hierdie konteks losgemaak, duisende jare teruggeskuif en op die bedeling van die kerk van toepassing gemaak kan word nie.

Die Bruilofsmaal van die Lam

Ná die wederkoms sal die bruilofsmaal van die Lam op aarde plaasvind (Op. 19:7-9). Tydens die wederkoms sal Jesus reeds met sy bruid verenig wees, omdat sy sewe jaar tevore na Hom weggeraap is. Die huweliksbevestiging in die hemel sal dan al afgehandel wees, maar die onthaal ná die troue, die bruilofsmaal van die Lam, sal op aarde plaasvind.

Met die wederkoms sal die bruid in die oomblik van Christus se grootste triomf deel wanneer Hy as Koning van die konings na hierdie aarde terugkeer, die mag van die vyand verbreek en ‘n regering van geregtigheid tot stand bring waarin sy diensknegte saam met Hom sal regeer. Die bruilofsmaal sal ‘n luisterryke geleentheid wees wat deur baie genooide gaste bygewoon sal word, onder andere die bekeerde oorblyfsel van die volk Israel wat kort tevore die Here Jesus as Messias aanvaar het. Hulle blydskap en vreugde in die Here sal volkome wees.

Hierna sal Jesus, die Messias-Koning, die troon van Dawid herstel en die lank verwagte Messiasryk vestig (Hand. 15:16-17), waarna tereg as die duisendjarige vrederyk verwys word. Sy getroue diensknegte sal saam met Hom as konings regeer. Aan diegene wat as getuies en gestuurdes van Christus in hierdie bedeling getrou bevind is, sal verskillende posisies in sy koninkryk toegeken word (Luk. 19:17,19). Ons het nóú die geleentheid om onsself aan die Here toe te wy en vir Hom te werk (2 Kor. 5:10). By die wederkoms sal Hy ons hiervoor beloon deur genadeloon aan ons toe te ken, en in sy vrederyk sal ons saam met Hom regeer. Hy verwag van sy diensknegte om nie doellose lewens te lei en met leë hande voor Hom te verskyn nie (Luk. 19:20-23), maar om getrou bevind te word sodat Hy hulle verder in sy koninkryk kan aanwend.

Persoonlike toewyding

My groot doel in die lewe is om die werke te doen van Hom wat my gestuur het, terwyl dit dag is. Die nag van God se oordele kom, wanneer niemand kan werk nie. Mag die Here Jesus my met die uitvoering van sy opdragte besig vind wanneer Hy ons kom haal en na ons tuiste in die hemel wegvoer. As ons in Christus is, hoef ons nie die komende oordele te vrees nie, want daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie – vir die wat nie na die vlees wandel nie maar na die Gees (Rom. 8:1). Ons kom nie in die oordeel nie, want ons het oorgegaan uit die dood in die lewe (Joh. 5:24). Wat ‘n blye dag om na uit te sien, dat Jesus Christus sy bruid kom haal, sodat sy al die oordele wat oor die sondaars gaan kom, kan ontvlug en voor die Seun van die mens staan. Onbeskryflike heerlikheid sal aan haar geopenbaar word – wat die oog nie gesien, die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat die Here gaan berei het vir dié wat Hom liefhet (1 Kor. 2:9).

Vrae

1.    Noem die twee fases van Christus se koms en dui aan wat in die tydperk tussen hulle gaan gebeur.

2.    Beskryf die wegraping as ‘n ontvlugting uit die komende oordele van God.

3.    Waar sal Jesus Christus met sy sigbare koms op aarde verskyn?

4.    Wat sal Hy hierna doen?

5.    Wie sal Jesus Christus tydens sy wederkoms na die aarde toe vergesel?

6.    Waarom moet ons waak en bid om vir die wegraping waardig te wees?

 

19. Die Antichris

Daar was deur die eeue heen verskeie wêreldleiers en diktators wat ‘n tipies antichristelike rol vervul het deurdat hulle die Christendom beveg en probeer mislei of uitroei het. Hulle was almal antichriste in die kleine – m.a.w. voorlopers vir die groot eindtydse Antichris (1 Joh. 2:18). Paulus wy in meer besonderhede oor die eindtydse openbaring van die Antichris uit, asook sy verdelging tydens die wederkoms van Christus (2 Thess. 2:3-12).

In hierdie gedeelte word ‘n duidelike aanduiding gegee dat daar eers ‘n teëhouer uit die weg geruim moet word voordat die ongeregtige (die Antichris) geopenbaar kan word. Die teëhouer waarna hier verwys word, is die ware kerk wat ‘n tempel van die Heilige Gees is (1 Kor. 3:16, 6:19). Ons moet begryp dat net die Heilige Gees die Antichris met sy sataniese gees van dwaling kan teëstaan (1 Joh. 4:1-6). Wanneer die gemeente skielik met die wegraping verdwyn, dan verdwyn die lig van die wêreld en breek daar geestelik totale duisternis op aarde aan. Dan, wanneer daar niemand is wat die werke van die duisternis kan openbaar en bestraf nie, sal die Antichris sonder enige teëstand geopenbaar en wêreldwyd deur almal aanvaar word.

Die vier ruiters

Volgens Openbaring 6:1-8 gaan die Antichris op ‘n heel besondere wyse geopenbaar word in sy poging om die mensdom eers deur misleiding en dan deur ‘n genadelose diktatuur onder sy absolute beheer te kry. In die eerste stadium van sy bewind sal hy as ‘n vredevors op die wêreldtoneel verskyn (die ruiter op die wit perd). Feitlik niemand sal deur sy bedekte bedrog en valse vredesmantel kan sien wie hy werklik is nie. Hy sal sy aanspraak dat hy ‘n gesant van God is, op ‘n skouspel van bonatuurlike magte en wonderwerke baseer. Alle godsdienste sal hom as gevolg hiervan as hulle gemeenskaplike wêreldmessias aanvaar. Vir die misleide, nominale Christene sal hy die Christus wees, vir die Jode die Messias, vir die Moslems die Imam Mahdi, vir die Hindoes Krishna en vir die Boeddhiste die Maitreya Boeddha. Deur slim diplomasie sal hy ook die wêreld polities verenig om die hoof van ‘n wêreldregering te word.

Wanneer dit 3½ jaar later blyk dat die Antichris se eenheidshervormings en sosialistiese wêreldregering misluk het en rebellie teen sy bewind voorkom, sal hy homself tot geweld wend om sy posisie te handhaaf, en daardeur ‘n militêre diktator word (die ruiter op die rooi perd). Streng ekonomiese beheer en rantsoenering sal tydens die oorloë en hongersnode ingestel word (die ruiter op die swart perd). Hierna bly daar nog net een hoedanigheid vir die Antichris in sy skrikbewind oor, en dit is om as die doodsengel soveel as moontlik mense af te maai en saam met hom na die verderf te sleep (die ruiter op die vaal perd).

Identiteit van die Antichris

In Openbaring word meer besonderhede oor die identiteit en rol van die Antichris gegee, wat as ‘n dier met sewe koppe voorgestel word, asook van sy mederegeerder, die valse profeet (Op. 13:1-18). In Openbaring 17 word nog ‘n intieme bondgenoot van die Antichris genoem, uit wie ons meer van hom te wete kan kom. Dit is ‘n vrou wat al die valse, antichristelike godsdienste van alle tye voorstel (Op. 17:1-18). Hierdie vrou is die moeder van die afvalliges, en as sodanig ‘n geestelike moederorganisasie (‘n alliansie of ekumeniese liggaam) vir al die valse godsdienste. Sy was in ‘n noue assosiasie met al die vorige wêreldryke, en sy sal ook op die dier se rug ry en ten nouste met hom en sy komende wêreldregering geassosieer wees. In Openbaring 17:9-11 word ons gehelp om sowel vir haar as die dier op wie se rug sy ry, beter te verstaan.

Die eerste gevolgtrekking wat ons hier moet maak, is dat Johannes nie van die sewe berge van Rome praat nie, en dus nie ‘n profesie oor die Rooms-Katolieke Kerk uitgespreek het nie. Hy sê dat die sewe berge sewe goddelose konings (of koninkryke) is wat mekaar chronologies opvolg in tyd. Ons weet ook dat hy nie na Romeinse keisers verwys nie, omdat daar tussen Nero en Konstantyn alleen tien antichristelike keisers aan bewind was. Nee, die Here gee vir ons hier ‘n breë perspektief op sewe wêreldryke wat almal vestings vir heidense gelowe was (en sal wees) en dus in openlike rebellie teen die koninkryk van God is. In Génesis, Jesaja en Daniël word na hierdie ryke verwys. Hulle is die volgende: 1. Die  antieke Babiloniese ryk wat deur Nimrod gestig is; 2. Die Assiriese ryk; 3. Die neo-Babiloniese ryk van Nebukadnésar; 4. Die Medo-Persiese ryk; 5. Die Griekse ryk; 6. Die Romeinse ryk; en 7. Die eindtydse ryk van die Antichris.

In Openbaring 17:10 sê Johannes duidelik dat vyf van hierdie koninkryke in sy tyd reeds geval het, die een was aan bewind en die sewende een moes nog kom. In die jaar 95 n.C. toe die boek Openbaring geskryf is, het vyf van dié ryke inderdaad reeds geval – dit is van die antieke Babiloniese ryk af tot by die Griekse ryk. Die Romeinse ryk was bestaande en die eindtydse ryk van die Antichris nog toekomstig. Die laaste ryk word deur die sewende kop met die tien horings voorgestel. Dit is belangrik om die korporatiewe karakter en samehorigheid van hierdie sewe wêreldryke raak te sien: dit is een dier met sewe koppe. Hulle adem almal dieselfde gees van verderflike humanisme, selfverheffing, sondigheid, gewelddadigheid, rebellie teen die lewende God, asook betrokkenheid by die okkultiese werke van die duisternis. Almal van hulle is dus vestings van valse godsdienste en as sodanig ‘n sataniese komplot teen die koninkryk van God en die stad van die groot Koning, Jerusalem.

Die Antichris se eindtydse ryk moet dus as voortvloeiend uit die vorige ses ryke gesien word. Dit is wesenlik deel van dieselfde godsdienstige en politieke rebellie wat al vir duisende jare deur Satan aangeblaas word, en deur hom gebruik word om die koninkryk van God op aarde te probeer vernietig. Sy einddoelwit is om oor God se skepping te heers en in sy plek as God aanbid te word (2 Thess. 2:4; Op. 13:3-4,8). Onderweg na die bereiking van hierdie ideaal sal alle moontlike vorms van misleiding, omkopery, dwang, onderdrukking en militêre geweld gebruik word wat hy vir sy doel nuttig vind en wat hy kan slaag om te monster.

Die noue verband tussen die Antichris se eindtydse ryk en die vorige wêreldryke blyk ook uit die feit dat hy as ‘n dier met die lyf van ‘n luiperd, die pote van ‘n beer, die bek van ‘n leeu en ‘n kop met tien horings daarop voorgestel word (Op. 13:2). Hierdie simboliek stem met dié in Daniël 7 ooreen waarin die Babiloniese ryk as ‘n leeu, die Medo-Persiese ryk as ‘n beer, die Griekse ryk as ‘n luiperd en die Romeinse ryk as ‘n wreedaardige dier met tien horings op sy kop voorgestel word. Dit beteken dat kenmerke van al hierdie ryke in die Antichris en sy eindtydse ryk sal herleef – dit sal dus nie net ‘n herleefde Romeinse ryk wees nie, maar ook ‘n herlewing van al die slegte eienskappe van die Babiloniese, Medo-Persiese en Griekse ryke. Dit sal veral sterk Babiloniese eienskappe vertoon.

Om hierdie rede is dit verkeerd om net na Europa as die herstelde Romeinse ryk te kyk en te beweer dat die Antichris uit Rome moet kom. Sy oorsprong sal uit ‘n land wees wat deel van die Babiloniese, Medo-Persiese, Griekse én Romeinse ryke was, naamlik uit die gebied van die koning van die Noorde (Dan. 11:36-45). Dit is noord-noordoos van Israel geleë en was in verskillende tye in die geskiedenis as Babilonië, Assirië en Sirië bekend. Huidiglik is dié gebied as Sirië en Irak bekend, maar die hartland daarvan is in Irak. Dit is ook waar die stad Babilon geleë is, wat nou weer herbou word. Jesaja 10:12-14 verwys ook na hierdie eindtydse “Assiriër.” Sy optrede word duidelik in die konteks van die dag van die Here geplaas (Jes. 10:20), wanneer die Here sy volk Israel uit hierdie diktator se hand sal verlos.

Wêreldregering

Die Antichris sal ‘n diktatuur instel wat op politieke, godsdienstige én ekonomiese magsbasisse berus. Op elk van hierdie drie terreine sal totalitêre beheer uitgeoefen word met die doel om alle mense van hulle basiese menslike vryhede te beroof. Hulle sal geen politieke regte, godsdiensvryheid óf ekonomiese selfbeskikkingsreg buite die strukture van sy nuwe wêreldorde kan verkry nie. Hy sal homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar en almal laat teregstel wat weier om hom of sy beeld te aanbid (2 Thess. 2:4; Op. 13:15). Deur die instelling van ‘n gerekenariseerde, kontantlose ekonomie sal alle ekonomies aktiewe mense se koop- en verkooptransaksies beheer word (Op. 13:16-18). Die bewering wat sommige mense maak dat daar nooit enige gevaar in ‘n kontantlose ekonomiese stelsel sal wees nie, en dat die nommer of die merk van die Antichris nie letterlik opgeneem moet word nie, is deel van Satan se propagandaveldtog om mense nou reeds op die aanvaarding van sy nommerstelsel voor te berei.

Die ideologie van die Antichris is “alles is een.” Dit beteken dat alle godsdienste wesenlik een is, dieselfde messias moet aanbid (Op. 13:4), en dat alle nasies onder een wêreldregering kan verenig om een leier na te volg (Op. 13:3,7). Die Bybel leer ons egter dat daar onverenigbare werklikhede in die heelal is, nl. die koninkryke van God en Satan. Dit lei na absolute teenstellings tussen lig en duisternis, die waarheid en die leuen, die lewe en die dood, die smal weg en die breë weg, en die hemel en die hel. Mense moet besluit of hulle God se Messias (Joh. 14:6) of Satan se valse messias (Op. 13:4) wil aanhang.

Die laaste groot aanslag van die Antichris, die valse profeet en hulle meelopers sal tydens die slag van Armageddon plaasvind. Hulle sal ‘n wêreldmag in die Midde-Ooste ontplooi in ‘n poging om die oorblyfsel van Israel uit te wis, en ook die koms van die ware Messias op die Olyfberg in te wag om teen Hom oorlog te probeer voer. Dit sal egter na die Antichris en die valse profeet se finale verdoemenis lei (Op. 19:19-21), asook na die binding van Satan (Op. 20:1-3). Dan sal Christus se beloofde vrederyk op aarde begin.

Persoonlike toewyding

Die opmars en beplande openbaring van die Antichris moet deur evangeliese Christene teëgehou word. Ons is die lig van ‘n donker aarde en moet in die geloof die magte van die duisternis teëstaan. Hoewel ons nie saam met die Antichris hier op aarde sal wees nie, moet ons die voorbereidings vir sy wêreldregering en alliansie van wêreldgodsdienste as antichristelike instellings teëstaan. Sy ideologie van politieke, godsdienstige en ekonomiese globalisme, asook sy sondekultuur waarin alles toelaatbaar is (2 Thess. 2:3), hou ‘n wesenlike bedreiging vir Christelike vryhede en regte in, en is reeds besig om oral op aarde inslag te vind. Ek wy myself aan die taak om ander mense teen hierdie nuwe hervormings en eenheidsdenke te waarsku en my eie lewe streng in ooreenstemming met die Bybel in te rig.

Vrae

1.    Sal die Antichris ‘n persoon of ‘n onpersoonlike stelsel wees?

2.    Uit watter land of gebied sal die Antichris na vore tree?

3.    Met watter antieke wêreldryke sal hy geassosieer wees?

4.    Beskryf sy rol as ‘n valse vredevors.

5.    Wat sal die Antichris se magsbasisse wees?

 

20. Die Regterstoel-oordeel

Dit is belangrik dat Christene in hulle geestelike lewe nie net gemotiveer word om eendag hemel toe te gaan nie, maar om nou, in hulle aardse lewens, godvrugtige lewens te lei deur werke te doen wat by die bekering pas (Matt. 3:8). Die Here gaan hierdie werke ná die wegraping beoordeel en beloon, en in die lig daarvan sal dit duidelik wees wat die waarde van jou lewe in sy koninkryk was. Ons sal verantwoording moet doen oor wat ons met ons talente en geleenthede in die diens van die Here gedoen het.

Petrus sê die tyd is daar dat die oordeel in die huis van die Here moet begin (1 Pet. 4:17). By sy koms sal Christus ons werke beloon (Op.11:18; 22:12). Dit is met die oog hierop dat Christus aan die martelaarsgemeente in Smirna ‘n kroon beloof (Op. 2:10). Aan sy getroue getuies in afvallige Thiatire sê Hy dat hulle saam met Hom sal regeer (Op. 2:25-26). Aan sy diensknegte wat Hom te midde van groot armoede en probleme in Filadelfia dien, sê Hy dat hulle nie moet toelaat dat hulle deur geestelike veragtering hul krone verloor nie (Op. 3:11). Deur hulle volharding tot aan die einde toe moet hulle waardig bly om krone te ontvang (Gal. 6:9; 1 Joh. 2:28; 2 Joh. 1:8). Kinders van die Here het onteenseglik ‘n groot verantwoordelikheid om vir Christus se skielike koms en ons verskyning voor sy regterstoel gereed te wees!

Die afspraak

Alle Christene het ‘n afspraak voor die regterstoel van Christus, of hulle goeie diensknegte was of nie. Sommige sal loon ontvang, terwyl ander met leë hande daar sal staan. Die feit is dat die Here se diensknegte rekenskap van hulleself sal moet gee (2 Kor. 5:10; Rom. 14:10,12). Daar gaan baie werke van gelowiges wees wat op dié dag nutteloos gaan blyk te wees omdat dit geen ewigheidswaarde het nie. Die Here Jesus sê aan elke gemeente in Openbaring: “Ek ken jou werke…” (Op. 2:2,9,13,19; 3:1,8,15). Hy gaan elkeen volgens sy werke vergeld.

Aan die Korinthiërs verduidelik Paulus in veel meer detail hoe die werke van gelowiges aan God se vuurproef onderwerp sal word. Hieruit blyk dit duidelik dat dit geloofswerke is wat ná bekering gedoen word omdat dit op die Rots, Jesus Christus, gebou word. Die werke van sommige Christene sal egter verwerplik wees omdat dit vleeslik is. In die lig hiervan toon Paulus aan dat ons as medewerkers van God ‘n besliste taak het om in sy koninkryk te verrig. Ons moet egter oppas hoe ons dit doen – nie in die krag van die vlees nie, maar in die krag van die Heilige Gees (1 Kor. 3:8-16). ‘n Paar sake is uit dié gedeelte baie duidelik:

  • Die fondament van bekering, wat die begin van ‘n nuwe lewe in Christus is, moet éérs in ons lewe gelê word voordat ons vir die Here kan begin werk. Die beoordeling voor die regterstoel is net vir gelowiges wie se lewens op die Rots gebou is.
  • Ná ons bekering het ons ‘n opdrag om vir die Here te werk deur ons lig in die wêreld te laat skyn en sy getuies te wees. Ons moet medewerkers van God in die uitbreiding van sy koninkryk op aarde wees.
  • Dit is nie vanselfsprekend dat ons altyd net aanvaarbare werke onder die leiding van die Heilige Gees sal doen nie, omdat ‘n Christen ook nuttelose dinge in die krag van die vlees kan doen (1 Kor. 3:1-3). Dié werke is die hout, hooi en stoppels wat nie ewigheidswaarde het nie en vir God verwerplik is.
  • Aan diegene wat onaanvaarbare werke in die vlees doen, word die vraag gevra: “Weet julle nie dat die Gees van God in julle woon nie?” Hulle moet hulle lewens aan die beheer van die Heilige Gees oorgee en in sy krag die Here begin dien. Dit is standaard Christenskap.

Die Here Jesus het in ‘n gelykenis in Lukas 19: 11-27 ook na die dag verwys wanneer sy diensknegte rekenskap van hulle lewens sal moet gee. Hy sê dat Hy aan elkeen van hulle ‘n pond gegee het wat op die instaatstellende krag van die Heilige Gees dui, m.a.w. ‘n godgegewe werksvermoë. Wanneer Hy as Koning terugkom, sal Hy eerste sy diensknegte ontbied om loon toe te ken ooreenkomstig die arbeid wat hulle verrig het. Dié een wat met sy pond tien ponde wins verdien het, word geprys en hy kry gesag oor tien stede (Luk. 19:17). ‘n Ander een kry gesag oor vyf stede, en die een wat sy pond begrawe het en met leë hande voor sy Heer verskyn, word verwyt. Hy kry geen loon nie, alhoewel hy een van sy Heer se diensknegte was.

Die grondslag van beoordeling

Die Here het voor sy regterstoel ‘n afspraak met diegene wat aan Hom behoort. Uit die aard van die saak gaan hulle nie op grond van die aanwesigheid of afwesigheid van geloof in hulle lewe beoordeel word nie. Hulle is almal uit genade gered, deur die geloof, en dit is ‘n gawe van God. Omdat hulle almal glo, is die grondslag van hulle beoordeling iets anders, nl. werke van geloof. Dit is die werke wat uit ‘n lewende geloof móét voortvloei (Jak. 2: 26).

Paulus stel dit in Efésiërs 2:8-9 duidelik dat ons deur geloof gered word, sonder werke. Niemand kan dus sy saligheid verdien deur daarvoor te werk nie. Redding is ‘n genadegawe van God. Nadat ‘n persoon egter gered is en ‘n gelowige geword het, word dit van hom verwag om ‘n lewe van godsvrug en goeie werke te lei (Ef. 2:10). Die Here gaan ons nie beloon vir dit wat ons vír Hom gedoen het nie, maar net vir dit wat Hy déúr ons gedoen het. Ons is werktuie in sy reddende regterhand. Wat ons doen, moet deur die krag van sy Heilige Gees wees. Ek moet nie my eie kop volg nie, maar die Here raadpleeg en ken in al my weë (Spr. 3:5-6). Die volgende vyf krone word aan die oorwinnaars beloof:

Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewe. Die wedloop van die lewe waarin ons is, word met dié van ‘n atleet vergelyk (1 Kor. 9:24-27). Atlete sorg dat hulle gesond bly, hulle rook of drink nie en eet die regte kos. In die wedloop van die lewe moet ons ook geestelik gevoed word en ons van alle skadelike (sondige) gewoontes weerhou wat ons vordering kan vertraag (Heb. 12:1). Toewyding van hierdie aard gaan met hartsreiniging en die vervulling met die Heilige Gees gepaard (2 Kor. 7:1; Ef. 5:18). ‘n Lewe van heiligheid en diensbaarheid vereis selfdissipline, daarom oefen ek myself in die godsaligheid (1 Tim. 4:7) en kasty my liggaam om dit diensbaar te maak (1 Kor. 9:27). Hiervoor sal ek ‘n onverwelklike kroon ontvang – nie, soos die atlete, net ‘n verwelklike lourierkrans en ‘n kort oomblik van glorie nie.

Die kroon van roem vir sielewenners. Die groot taak wat Christus aan sy dissipels opgedra het, is dié van wêreldevangelisasie. Ons is almal gestuur (Joh. 20:21; Mark. 16:15; Hand. 1:8). Vir diegene wat ander mense na Christus toe lei, word die kroon van roem beloof (1 Thess. 2:19). Dit is ‘n hoë roeping in die koninkryk van die hemel, daarom word sielewenners met skynende sterre vergelyk (Dan. 12:3). Hulle word ook, uit God se oogpunt, as wyse mense beskryf (Spr. 11:30).

Die kroon van heerlikheid vir getroue herders. Die geestelike versorging en opbouing van die gemeente is ‘n baie belangrike aspek van Christelike dienswerk wat deur die Here self bepaal is. As ‘n herder dit nougeset doen, sal die Here aan hom die kroon van heerlikheid gee (1 Pet. 5:2-4). Weens die groot verval van die laaste dae het getroue en bekwame herders wat die woord van die waarheid reg sny, baie skaars geword. Die meerderheid sal ter wille van populariteit, en ook onder die beïnvloeding van afvallige kollegas, die weg van kompromie volg en ‘n maklike maar valse evangelie verkondig (2 Tim. 4:3-4).

Die kroon van die lewe vir Christen-martelare. Aan elkeen wat sy lewe ter wille van sy geloof aflê, word die kroon van die lewe beloof (Op. 2:10). Deur die eeue heen was daar getroue diensknegte van die Here Jesus wat bereid was om ten koste van hulle veiligheid, hulle werk, hulle gesinne, en selfs hulle eie lewe, die vlam van geloof in ‘n vyandige wêreld omhoog te hou (Luk. 10:3; Joh. 16:33). Hoe ís Christene die afgelope byna 2000 jaar nie in baie lande geminag vervolg, verdryf,  bespot en geïntimideer nie. Die Here sal hulle spesiaal beloon. By die kategorie van martelare is ook ingesluit diegene wat ‘n swaar kruis van beproewing in hulle lewe moes dra. Volgens Jakobus 1:12 sal hulle ook beloon word as hulle getrou bly. Daar is baie mense wat gestrem is, of gestremde kinders het, wat siek of verlam is, wat onderdruk, misken of verwerp word, of wat dalk werkloos, arm, honger of sonder huisvesting is. Hulle word almal bemoedig om die geloof te behou en op hulle moeilike weg te volhard. Sommige van hulle kry uitkoms in hierdie lewe en ander nie. Die hoofsaak is dat hulle tot die einde toe getrou moet bly en wag op die volmaaktheid wat ons eendag in die hemel sal hê (2 Kor. 4:16-18; Heb. 11:3-5).

Die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefhet. Om die Here se koms lief te hê, vereis ‘n ingesteldheid op dinge met ewigheidswaarde. Jy moet skatte in die hemel bymekaarmaak waar mot of roes nie verniel en waar diewe nie inbreek en steel nie. As jy sê dat jy die Here Jesus se koms liefhet, dan sê jy dat Hy jou Koning is, dat jy by die vestiging en uitbreiding van sy koninkryk betrokke is, en dat jy uitsien na die dag wanneer Hy as Koning openbaar sal word. Intussen is jy ‘n vreemdeling en ‘n bywoner op aarde omdat jou ewige tuiste nie hier is nie. Paulus het die goeie stryd van die geloof gestry terwyl hy die koninkryk van Christus in ‘n heidenwêreld gevestig het (2 Tim. 4:7-8). Hy het uitgesien na die kroon wat die regverdige Regter aan hom “in dié dag” sal gee, verwysend na die tyd wanneer die oordele van die Here reeds op aarde begin het. In daardie stadium sal die ware kerk wat die oordele ontvlug het, in die hemel wees en eerste voor die regterstoel van Christus verskyn.

Persoonlike toewyding

Dit is my groot doel in die lewe om die Here wat my as sy getuie uitgestuur het, te behaag deur sy opdragte uit te voer en werke te doen wat by die bekering pas. Tot sy eer wil ek voor die regterstoel krone vir getroue diens ontvang. Ek besef dat ek dit slegs deur die krag van die Heilige Gees kan doen, daarom bid ek om ‘n nuwe salwing deur die Gees van God. Dit is net wanneer Hy my bekragtig, dat ek werke met ewigheidswaarde kan doen. Diens aan die Here word dikwels onder moeilike omstandighede gedoen, maar met die oog op die hemelse beloning word ons nie moedeloos nie (Heb. 11:24-26). Hierdie krone sal weer uit erkentlikheid voor die Lam se voete neergelê word, omdat net Hy waardig is om al die eer te ontvang (Op. 4:10-11). Mag die Here my daarvan bewaar om op daardie dag met leë hande voor Hom te verskyn, omdat dit die bewys van ‘n onvrugbare lewe sal wees.

Vrae

1.    Sal ongeredde mense ook voor die regterstoel van Christus verskyn? Gee redes.

2.    Watter aspek van die Christen se lewe word voor die regterstoel beoordeel?

3.    Waarom is werke ná bekering in ‘n Christen se lewe so belangrik?

4.    Vir water krone beywer jy jouself en wat sal die gelowiges later met die krone doen?

5.    Wat verwag die Here van die herders van gemeentes?

6.    Sal alle Christene krone ontvang? Gee redes vir jou antwoord.

 

21. Die Millennium

Die Bybel leer duidelik 'n toekomstige, duisendjarige vrederyk van Christus wanneer Hy van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem oor die wêreld sal regeer. Hierdie komende dispensasie word die millennium genoem. In Openbaring 20:1-7 word die duisendjarige ryk ses keer genoem.

‘n Toekomstige koninkryk op aarde

Wanneer die Here Jesus na die aarde terugkom, kom Hy as Koning van die konings en sal ‘n regering vir die hele wêreld instel (Op. 11:15). Daniël sê dat die Seun van die mens met sy koms soos ‘n rots sal wees wat die aardse koninkryke sal verbrysel en tot stof vermaal, en self in hulle plek sal regeer (Dan. 2:44-45). Sagaria sê dat Hy koning oor die hele wêreld sal wees (Sag. 14:9). Dieselfde belofte oor sy koningskap op aarde is voor Jesus se geboorte aan Maria gemaak (Luk. 1:31-32). Die troon van Dawid is nie in die hemel nie, maar op aarde. Jesus regeer nie nou in ‘n geestelike sin op die troon van Dawid nie, want dié troon is sedert die Babiloniese ballingskap van Israel al vervalle en in onbruik. Christus sal hierdie troon in Jerusalem eers met sy wederkoms herstel en dan daarvandaan regeer (Hand. 15:16-17).

Die ouderlinge in die hemel (die verheerlikte kerk) weet dat hulle saam met die Here Jesus na die aarde sal terugkom en hier as konings in sy ryk sal heers (Op. 5:9-10; vgl. 2 Tim. 2:12). Die Openbaringsgebeure gaan met ‘n sterk proklamering van Christus se koningskap gepaard (Op. 12:10). Wanneer Jesus, wat tans as Hoëpriester by die Vader se troon vir ons intree, met sy wederkoms terugkom, sal Satan se mag en invloed op aarde verbreek en Christus se koninkryk ingestel word. Die duiwel sal dan nie meer die owerste en god van hierdie wêreld wees, in wie se mag die huidige verdorwe wêreld lê nie (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4; Ef. 6:12; 1 Joh. 5:19).

‘n Verdere bewys daarvan dat die duisendjarige koninkryk nie in die hemel is nie, is die feit dat daar nog inherente vleeslikheid en wanordelikheid onder die nasies sal wees, wat sal vereis dat hulle met ‘n streng hand regeer word. Hoewel die duiwel gebind sal wees en die mense nie tot openlike sondes sal kan verlei nie, sal hulle nog ‘n gevalle natuur hê wat gedissiplineer moet word. In Openbaring 12:5 en 19:15 word gesê dat Christus die nasies met ‘n ystersepter sal regeer. In hierdie toekomstige koninkryk sal sy getroue diensknegte saam met Hom regeer (Op. 2:25-27).

Gedurende die Messiasryk sal die Here Jesus se troon in Jerusalem die ontmoetingspunt tussen die hemel en aarde wees, en dus die sentrum van goddelike wysheid, gesag en ‘n regering van geregtigheid (Jes. 2:2-4; 24:23; Sag. 8:22). ‘n Toestand soos hierdie, waarin daar geen oorloë gevoer, geen militêre opleiding ondergaan of enige wapens vervaardig word nie, het nog nooit op aarde bestaan nie. Dit kan dus slegs op die toekomstige vrederyk betrekking hê. Omdat die duiwel gedurende die duisend jaar van Christus se regering gebind sal wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie, sal gewelddadigheid en oorlogvoering nie voorkom nie. Ander vorms van sonde sal ook verdwyn en die hele wêreld sal slegs die Christelike godsdiens erken en aanhang (Jes. 11:9). Jerusalem sal spontaan deur almal as hoofstad van die wêreld erken word, en daar sal geen vyandigheid en politieke spanning tussen individue of nasies bestaan nie (Jer. 3:17).

Die enigste vorm van wangedrag wat wél sal voorkom, sal laksheid wees deurdat sommige nasies sal nalaat om die Here te eer en te dien soos hulle moet. Dit sal nog steeds ‘n geval wees van: “die gees is gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). Hulle sal as gevolg daarvan deur vermanings en strafmaatreëls aangespreek word (Sag. 14:16-17).

Daar sal in hierdie tyd ‘n oorblyfsel van die nasies op aarde wees. Hulle sal sterflike mense van vlees en bloed wees, en as gevolg van hulle gevalle natuur nog steeds gered moet word om waarlik aan die Here te behoort. Volgens Sagaria 14:16-17 sal hulle wél die groot verdrukking en die slag van Armagéddon oorleef, en hoewel hulle nie die nommer van die Antichris aanvaar het nie, behoort hulle ook nie aan Christus voordat hulle Hom daadwerklik as Verlosser aangeneem het nie. Daar is aanduidings in die Bybel dat die relatief klein oorblyfsel van die nasies direk ná die wederkoms van Jesus almal saam met die oorblyfsel van Israel gered sal word. Sagaria sê dat met die wederkoms, die oorblyfsel van Israel rou sal bedryf wanneer hulle met die Messias versoen word (Sag. 12:10-14; 13:1,9; Matt. 24:30-31).

Dit beteken dat die vrederyk met ‘n eerste geslag Christene sal begin. Omdat hierdie mense egter nog almal hulle Adamiese, sonde-geneigde natuur het, sal die opkomende geslagte [soos ook nou] ongered gebore word en dus weergebore moet word om kinders van God te word. Om hulle te evangeliseer, sal die taak van die geredde Israel wees, wat ook nog sterflike maar wedergebore mense sal wees. Hulle sal die evangelie na alle nasies uitdra (Jes. 27:6). Dit is uit Openbaring 20 duidelik dat daar gaandeweg ál hoe minder lede van die opkomende geslagte gered sal word. Wanneer die duiwel aan die einde van die vrederyk vir ‘n kort tydjie losgelaat word, sal miljoene mense dadelik in sy mag val (Op. 20:7-9).

Die eerste opstanding

Die leer oor die twee opstandings kom ook duidelik in verband met die duisendjarige vrederyk ter sprake. Slegs hulle wat deel het aan die eerste opstanding (Luk. 14:14; 1 Thess. 4:16), waarby ook ingereken moet word die ná-oes van die verdrukking, sal saam met Jesus Christus in sy ryk regeer. Die opstanding van die regverdiges móét dus voor die duisendjarige vrederyk plaasvind. Om hiervoor waardig te wees, is ‘n groot seën en iets om jou voor te beywer (Op. 20:6; vgl. Fil. 3:11-12). Die ander dode is die ongeredde menigte van alle eeue, en hulle sal nie herleef totdat die duisend jaar voleindig is nie (Op. 20:5). Hulle sal dan voor die groot wit troon verskyn om tot die ewige dood in die poel van vuur verdoem te word.

Kenmerke van die vrederyk

Die volgende is die belangrikste kenmerke van die toekomstige vrederyk op aarde:

God sal in die Persoon van Jesus Christus op aarde regeer (Luk. 1:31-33; Op. 19:15; Jes. 11:5-16). Die troon van Christus sal in Jerusalem wees (Sag. 8:22; Jes. 2:2-3; 24:23). Sy regering sal deur geregtigheid gekenmerk word (Jes. 1:26-27; Jer. 23:5-6). Daar sal geen oorlogvoering wees nie (Jes. 2:4; Miga 5:4). Satan sal gebind wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-4). Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here en die hele wêreld evangeliseer (Jes. 12:3-6, 27:6, 40:9). Deur hulle evangelisasie sal hulle die wêreld vol vrugte maak (Jes. 27:6) en die Here sal geëer word (Jes. 28:5). Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Hab. 2:14). Daar sal nie siekte wees nie (Jes. 33:24). Mense sal hoë ouderdomme bereik, want ‘n man van 100 jaar oud sal as ‘n kind beskou word (Jes. 65:20-23). Die natuur, wat as gevolg van die sondeval aan die nietigheid onderworpe is, sal herstel word (Rom. 8:19-22; Jes. 41:18-20). Tye van ekonomiese voorspoed sal aanbreek (Amos 9:13-14; Joël 3:18). Daar sal ten volle ontwikkelde, ekonomies voorspoedige gemeenskappe wees (Jes. 65:21-23). Harmonie sal in die diereryk heers, omdat die Here ‘n nuwe verbond met hulle sal sluit (Jes.11:6-9, 65:25; Hos. 2:17).

Israel se posisie in die vrederyk

Israel se posisie in die komende Messiasryk word dikwels in die Ou Testament beskryf en spesifiek met die dag van die Here in verband gebring. Dit sal ‘n tyd van seën, oorvloed, blydskap in die Here en vrede op aarde wees. Israel sal dan sy volle potensiaal as volk van God vervul en ‘n nasie wees waardeur die Here die hele aarde sal seën. Paulus het van Israel gesê: “As hulle val die rykdom van die wêreld is… hoeveel meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:12). Deur Israel se val, omdat hulle die Messias verwerp en laat kruisig het, is die versoening van God aan die nie-Joodse wêreld gebied. Wat ‘n geweldige seën is dit nie vir ons nie! Hoeveel te meer sal Israel dan nie in die vrederyk ‘n seën vir die wêreld wees wanneer hulle die verlossingswerk van die Messias onder alle nasies sal verkondig nie! Hulle sal dan hulle roeping as volk van God ten volle vervul.

Die volgende is voorbeelde van beloftes oor Israel se herstel en heerlikheid in die komende Messiasryk – Sag. 8:23; Jes. 27:12; Jer. 31:6-7,31,33; Mal. 3:17; Amos 9:11-12,14-15; Miga 7:11; Jer. 31:38,40; 33:6-9, 14-16; Jes. 62:6-7; Joël 3:17; Jes. 11:10, 12:4, 17:7, 26:1-2, 27:6, 28:5, 30:23,25; Sef. 3:9. Hierdie en baie ander seëninge sal die kenmerk van die Messias se duisendjarige vrederyk wees wanneer Hy op die troon van Dawid regeer. Israel het nog nooit hierdie seëninge beleef nie, dus is dit toekomstig. Die Messias se verheerlikte kerk sal saam met Hom regeer en geregtigheid op aarde laat geskied. Israel sal ‘n leidende rol in wêreldsake speel en die Here se spesiale getuies onder die nasies wees. Met die oog op hierdie toekomstige seëninge vir Israel én die kerk moet ons na groter heiligheid streef en ernstig vir die redding van Israel bid.

Laat ons reikhalsend na die millennium uitsien wat ná die koms van die Koning van die konings, Jesus Christus, sal aanbreek. Net Hy kan die oorblyfsel van Israel en die nasies red (Sag. 12:10; Matt. 24:30-31), die duiwel laat bind en opsluit (Op. 20:1-3), die troon van Dawid herstel (Hand. 2:29-30; 15:16-17) en alles op aarde ten goede verander. As ons bereid is om nou te ly en Christus te midde van groot teëstand te dien (Hand. 14:22), sal ons Hom met sy triomfantelike terugkeer vergesel (Sag. 14:4-5) en saam met Hom op aarde regeer (2 Tim. 2:12).

Persoonlike toewyding

Ek glo in die belofte van ‘n toekomstige vrederyk op aarde, daarom is ek nie teleurgesteld dat daar in die kerkbedeling nie soortgelyke toestande op aarde bestaan nie. Ek besef dat ons nou vreemdelinge en bywoners in ‘n wêreld is wat tot ‘n groot mate deur bose magte oorheers en gemanipuleer word. Om dié rede is ons nie konings nie, maar soldate vir die kruis. Ons sien uit na die tyd wanneer die Here Jesus as Koning van die konings na die aarde sal terugkeer, en ons saam met Hom in heerlikheid geopenbaar sal word (Kol. 3:4). Dan sal die herstelde Israel almal gered wees en die Messias van harte onder al die nasies dien. Soos Abraham, het ons ‘n vergesig van die stad wat fondamente het (die nuwe Jerusalem) waarvan God die boumeester en oprigter is (Heb. 11:10). Wat ‘n hemelse verwagting om te koester, en hoeveel te meer moet ons nie daarop ingestel wees om die Here te behaag deur dinge te doen wat ewigheidswaarde het nie!

Vrae

1.    Wanneer begin die millennium en hoe lank sal dit duur?

2.    Wat sê die Bybel oor die Here Jesus se toekomstige koninkryk op aarde?

3.    Beskryf die toestande wat gedurende die millennium in die natuur en diereryk sal heers.

4.    Wat sal die posisie van Jerusalem in die millennium wees?

5.    Wat sal die belangrikste taak van die geredde Israel in die millennium wees?

6.    Wat sal die verheerlikte Christene in die millennium doen?

7.    Waarom kan ons nie beweer dat die kerkbedeling die duisendjarige vrederyk is nie?

 

22. Beginsels van Toewyding

Ons sluit hierdie Bybelstudie-handleiding met ‘n oorsig van ‘n aantal beginsels vir ‘n suksesvolle geloofslewe af, sodat volgelinge van die Here Jesus hierdie groot waarhede ter harte kan neem:

Die belydenis van sonde

Ons leef in ‘n tyd waarin min aandag aan ‘n gevalle mensdom se grootste probleem gegee word, naamlik sonde. Die argument word dikwels aangevoer dat aangesien Jesus Christus vir ons sonde gesterf het, alle sonde outomaties vergewe word. Christus het inderdaad die straf vir almal se sondes betaal (Jes. 53:5; Ef. 1:7; 1 Pet. 2:24), maar hierdie sondes moet bely word voordat dit vergewe word (1 Joh. 1:9). Die belydenis van sonde vereis implisiet ook die versaking (Spr. 28:13) van die oortredings van God se wet van die liefde (Matt. 22:37-39; Rom. 13:8-10).

Christene kan nog sondig (1 Kor. 10:12; Jak. 3:2; 1 Joh. 1:8), en wanneer hulle dit wél doen, kla Satan hulle by God se troon aan (Op. 12:10). Indien hulle hierdie sondes dadelik bely en laat staan, tree Christus as Voorspraak vir hulle in, omdat Hy alle belyde sondes op grond van sy versoeningswerk aan die kruis vergewe. Hy verwerp Satan se aanklagte teen hulle omdat die prys reeds betaal en die betrokke Christene se verhouding met God weer herstel is (1 Joh. 2:1-2).

Ons moet baie sensitief vir sonde wees en na die Heilige Gees luister wanneer Hy ons van sonde oortuig (Joh. 16:7-8). As ons die Heilige Gees se waarskuwings ignoreer en moedswillig sondig, bedroef ons Hom (Ef. 4:25-32). Wanneer ons sien dat ander Christene aan versoekings toegee en sodoende die Gees bedroef, moet ons hulle op ‘n simpatieke maar reguit manier help en vermaan (Gal. 6:1; Heb. 3:13), anders val hulle verder terug en word deur sonde gebind (Heb. 12:14-15). Sonde moet dadelik erken, bely en laat staan word (Ps. 32:5; Kol. 3:8-9; Heb. 12:1,4). As ons werklik die Here liefhet, is ons daartoe verbind om sonde te haat (Ps. 97:10; Spr. 8:13).

Andrew Murray (Living the new life) sê: “Die opdrag in verband met sonde is dat dit elke dag na die Een toe gebring moet word wat dit kan wegneem, naamlik God. Ons moet leer dat sondebelydenis een van die grootste voorregte van die kind van God is. Ek moet my sonde deur belydenis aan God oorgee, dit aflê en God se vryspraak daarvoor aanvaar. Ek moet dit in die oond van God se liefde gooi, wat soos ‘n vuur teen sonde brand. Net God alleen kan sonde wegneem. Die Christen verstaan dit nie altyd nie. Hy het ‘n ingebore neiging om sonde te bedek, dit as minder belangrik voor te stel, of om dit net te verwerp as hy tot God nader. Hy bedek sy sonde met die werke wat hy reeds vir die Here gedoen het, en beplan om nog te doen. Jong Christen, as jy die vrede van volkome vergifnis en die goddelike reiniging van sonde wil ervaar, moet jy seker maak dat jy jou sonde reg bely. In die ware belydenis van sonde het jy een van die mees geseënde voorregte van ‘n kind van God, en die geheim van ‘n kragtige geestelike lewe:

  • Laat jou belydenis baie duidelik wees. Die voortdurende, onseker en vae belydenis van sonde doen meer kwaad as goed. Begin met een sonde. Laat dit by jou duidelik wees dat dit ‘n sonde is, en gee dit deur belydenis aan God oor. God bevry ons deur Jesus Christus van sonde. In só ‘n belydenis is daar krag en seën opgesluit.
  • Laat jou belydenis eerlik en opreg wees. Lewer die sondige daad uit wat weggeneem moet word. Belydenis beteken die aflegging van sonde. Gee dit aan die Here oor, wat jou daarvoor sal vergewe en ook daarvan sal reinig. Moet dit nie bely as jy nie van harte begeer om daarvan verlos te word nie. Belydenis is slegs van waarde as ek my sonde voor God aflê en staak.”

In sy slotopmerkings sê Andrew Murray dat die grootste struikelblokke in die weg van belydenis die volgende is: (a) onkunde oor sonde, (b) vrees om met jou sonde na God toe te gaan, (c) die poging om met iets goed na God toe te kom, en (d) ongeloof in die krag van Jesus se bloed, en in die rykdom van sy genade. Andrew Murray het ook die feit beklemtoon dat sonde dadelik bely moet word, sonder pogings om dit eers minder sleg te laat lyk of self te laat staan. Jy moet net so, in jou sondige toestand, na God toe kom. Dit mag ook nodig wees om jou sonde teenoor ander mense te bely indien jy teen hulle oortree het (Jak. 5:16).

Volkome en onmiddellike vergifnis word beloof aan diegene wat hulle sonde bely en hulle geloof in die versoeningswerk van Jesus Christus stel (1 Joh. 1:9). Hy verbreek die werke van die duiwel in ons lewe (1 Joh. 3:8). God sy dank wat aan ons die oorwinning oor sonde gee deur onse Here Jesus Christus (1 Kor. 15:57).

Heelhartige toewyding aan Christus

Helena Garratt (The threefold cord) sê die volgende oor ons toewyding aan Jesus Christus:

“Een is julle leermeester: Christus” (Matt. 23:8). So baie mense probeer om die wêreld te behaag, die kerk te behaag en hulleself te behaag, maar hulle probeer so min die Here Jesus te behaag. Verwerp alle meesters behalwe Christus. Die lewe is wonderlik eenvoudig wanneer jy net een Persoon hoef te behaag.

Die Here Jesus het gesê: “Kom na My toe... en leer van My” (Matt. 11:28-29). Jy kan nie van Jesus leer as jy nie by Hom is nie. Volg Hom en leer van Hom deur sy Woord (Joh. 5:39) en deur sy Gees (Joh. 16:13-14). Ons leef in ‘n tyd van intensiewe onderrig. As ‘n persoon geen geleerdheid het nie, word daar nie baie van hom gedink nie. Om in hierdie wêreld in aansien te wees, moet ons die wetenskappe, tale, kunste en verskeie vaardighede leer, want geleerdheid word hoog aangeslaan behalwe wanneer ons van die Here Jesus geleer het. Daar is baie mense wat as opgevoed en kundig beskou word, maar wat nooit in die skool van God was nie. Tóg is dit die enigste vorm van geleerdheid wat deur God aanbeveel word: “Laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is” (Jer. 9:24).

Dit is slegs wanneer ons naby Jesus Christus is dat die grootheid van die liefde sterker as die liefde vir grootheid is. Ons moet ons oë van alle ander dinge af wegdraai en op Jesus gevestig hou (Heb. 12:1-2). Hy moet die middelpunt van ons lewens en al ons aktiwiteite wees – ook in die kerk. Die belangrikste vraag is nie hoeveel werke ons doen nie, maar hoeveel die Here Jesus deur ons doen. “Die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is” (1 Kor. 3:13). Slegs die werke wat Jesus deur ons gedoen het, sal die vuurproef voor sy regterstoel kan deurstaan. Laat ons vol van die liefde van Christus wees.

Die kruis van Jesus

“Christus [het] vir ons sondes gesterf” (1 Kor. 15:3). “My teologie op hierdie oomblik,” het die sterwende C.H. Spurgeon aan ‘n vriend gesê, “bestaan uit vyf klein woordjies: Jesus het vir my gesterf.”

Indien ons ware volgelinge van Jesus Christus wil wees, moet ons altyd in die gekruisigde Christus roem deur ten nouste met sy kruisdood te identifiseer (Matt. 16:24; 1 Kor. 2:2). Eerw. P. Jones het gesê: “Hoe verder ons van die kruis af wegdryf, hoe minder passie het ons vir die redding van siele – ongeag of ons in leerstelling of in die praktyk wegdryf.” Charles Finney het gesê: “Waar die ontwyking van die kruis begin, daar eindig ware godsdiens.”

Die kruis is ‘n doodsinstrument – ons oue mens moet gekruisig word sodat ons aan die dood van Christus gelykvormig kan word (Rom. 6:1-6). Ons moet vir onsself en vir die wêreld sterf (Gal. 6:14). Die kruis stel ons ook in staat om voortdurende selfverloëning te beoefen (Luk. 9:23). Ons kan nie sonder ‘n kosteberekening ‘n lewe lei wat vir Christus aanneemlik is nie. Eerw. E.W. Moore het gesê: “Ons onvermoë om te kan ly, is die swak deel van ons Christelike lewe.” Andrew Murray het gesê: “Ons word geleer om lyding te verwag: die kruis is die simbool van ons geloof, en die Man van smarte is ons Leidsman.” Kruisdra is nie vandag meer populêr as wat dit was toe Jesus na Gólgota toe gegaan het nie.”

Pas op vir vervalsings van die evangelie van Jesus Christus. Die wêreld en die duiwel het nog altyd ‘n godsdiens sonder ‘n kruis bevorder. Vir die ware dissipels van Jesus Christus is die kruis egter die middelpunt van hulle geloof, en dus die krag van God (1 Kor. 1:17-18; Kol. 1:19-20).

Geloof

Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Heb. 11:6). God skenk aan ons ware geloof deur die Heilige Gees wanneer ons die evangelieboodskap hoor of lees. Ons is dan geestelik verlig en in staat om geloof vir redding in God die Vader en in sy Seun, Jesus Christus, te stel (Ps. 13:3; Ef. 5:14; Joh. 14:1). Die ongelowiges is diegene wat nie in die Here Jesus Christus as hulle Verlosser glo nie (2 Kor. 4:4). Selfs al “glo” hulle ook in afgode, beskou die Bybel hulle nie as gelowiges nie, omdat hulle nie in die enigste ware Verlosser van die wêreld glo nie. Die Here Jesus het beloof dat Hy die Heilige Gees sou stuur: “...en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde... omdat hulle in My nie glo nie” (Joh. 16:8-9).

Bowen het gesê: “Kan jy sien dat die sonde van ongeloof ‘n baie eienaardige sonde is? Dit is hierdie sonde alleen wat die poort van die hemel vir jou toesluit. Die vreeslike ding omtrent dié sonde is dat dit ‘n passiewe en sluimerende bestaan voer. Dit veroorsaak geen beroering in jou hart nie en het ook nie ‘n vaste voorkoms nie. ‘n Woord wat in toorn uitgespreek word, weergalm tot diep in jou hart, maar ongeloof is net ‘n toestand wat homself nie deur bepaalde simptome openbaar nie. Dit is ‘n atmosfeer waarin jy leef, en omdat jy jouself nog nooit in ‘n ander atmosfeer begewe het nie, skok dit jou nie. Hierdie is egter die sonde van alle sondes, en totdat jy leer om dit bo alle ander sondes te haat, is daar min hoop dat jy daarvan verlos sal word. Die weg van stryd teen ander sondes begin by ‘n stryd teen ongeloof, omdat die lewe van alle sondes in ongeloof verskuil is. As jy hierdie sonde kan oorwin, dan oorwin jy ook al die ander.”

Al die probleme wat ooit in die wêreld ingekom het, het as gevolg van twee dinge gekom – om na die leuens van die duiwel te luister, en om God nie te glo nie. Elke denkbare seëning kom op presies die teenoorgestelde manier – om ‘n dowe oor na die duiwel te draai en ten volle in God te glo. As jy God onderskat, dan sal jy jou vyand oorskat. Moet nooit probeer om Satan self te konfronteer nie. Dit is die Here se werk. Die houding wat die Here van ons vra om teenoor die duiwel in te neem, is om hom te weerstaan (Jak. 4:7). Satan sal weggaan wanneer die Here hom beveel om dit te doen, en nie voor die tyd nie.

Versoeking word verdryf as dit voor ‘n lewende geloof te staan kom, dit is Christus in die gelowige. Versoeking kan nie geloof oorwin nie, omdat geloof alle versoekings oormeester. Wanneer versoeking egter twyfel teëkom, gaan dit maklik by hierdie deur van Satan in en oorwin die twyfel.

“Geloof floreer die beste in ‘n hart wat vir altyd van alle eiegeregtigheid, selfverdediging, selfhelp en hoop op eie vermoëns ontledig is” (dr. Whyte). Oswald Chambers het gesê: “Geloof wat van homself seker is, is geen geloof nie. Net geloof wat van God seker is, is geloof.” ‘n Gebrek aan geloof is die een ding waaroor Christus sy volgelinge verkwalik het (Matt. 17:19-20; Mark. 4:40; Luk. 18:8). Die dissipels het die Here Jesus gevra om aan hulle meer geloof te gee (Luk. 17:5). Ons geloof moet versterk en opgebou word (Judas v.20).

Wanneer God ‘n groot taak het wat uitgevoer moet word, vertrou Hy dit aan ‘n persoon met ‘n sterk geloof toe. Dit is nie ons bekwaamheid, ons vaardighede of ons talente wat die deurslag gee nie, maar ons geloof. Geloof vertrou die Here vir alles. As medewerkers van God (1 Kor. 3:8) moet ons geloof in God hê, ook in die moeilikste omstandighede, en ons liggame dissiplineer terwyl ons die Here dien (1 Kor. 9:27; Rom. 6:13). Stockmayer het gesê: “In die geestelike lewe leer ons om in die geloof alleen te wandel, in die nouste assosiasie met God, sonder om ooit vir ‘n oomblik na die lewe van gevoel terug te keer. Geloof beroep hom net op die Woord van God, sonder om op emosies ag te slaan.”

God se leiding

“Die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand... Want wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees... Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak” (Spr. 2:6,10; 3:5-6; vgl. Ps. 23:3).

Helena Garratt sê: “Wanneer ‘n pad voor ons oopgaan, en daar twyfel is of die Here ons langs daardie weg lei, moet ons eers wag voordat ons ‘n finale besluit neem, want God is nooit haastig nie. Wanneer die leiding sterk, vinnig en aanhoudend is, kan ons byna seker wees dat dit nie van die Here af kom nie. Stel die saak in ‘n eenvoudige gebed aan die Here Jesus en los dit daar. Indien jou hart opreg teenoor Hom is, sal hy die oortuiging wegneem as dit van Satan af kom, maar dit versterk as dit van Homself af kom. Moet nooit oorhaastige besluite neem nie! Ons mag lank op ‘n antwoord wag, maar moenie op grond daarvan dink dat God nie jou gebede beantwoord nie, want God se tyd is sy eie en Satan s’n is nie. In al my jare van ondervinding was daar nie een geval waarin God ‘n haastige besluit van my verwag het nie. Die goue reël is: oortuigings wat van die Here af kom, bestaan voort, soos die kennis van jou redding, maar indrukke van alle ander soorte vervaag weer ná ‘n tyd van gebed en geduldige wag op die Here. In die meeste gevalle kom impulsiewe gedagtes om dinge te doen, nie van God af nie. Satan meng gereeld in ons lewens in, en die Here doen dit selde.”

Dit is slegs wanneer ons ophou om op ons eie insig en neigings te steun, dat ons ware leiding sal ervaar. Daar is net een ding wat werklik saak maak, en dit is dat God se wil sal geskied (Rom. 12:1-2; Fil. 2:13). Die Here lei ons gewoonlik net een tree op ‘n keer. Aangesien ons nie self ons lewensweg na die hemel toe bepaal nie, hoef ons nie al die detail oor God se leiding vooraf te ken nie. Ons moet net naby aan Hom bly en volg waarheen Hy ons lei (Ps. 25:12). Hy sal sy vrede aan jou gee wanneer jy die regte besluite neem (Fil. 4:7).

Weerstaan die duiwel

Die Heilige Gees is nie net aan ons gegee om vrymoedigheid te hê om die evangelie van Jesus Christus in ‘n vyandige wêreld te verkondig nie (Hand. 1:8), maar ook om die duiwel te weerstaan (Ef. 6:10-11), asook ander teëstanders (1 Kor. 16:9). Ons moet baie teëstand verwag, want ons is by die stryd tussen die koninkryk van God en die koninkryk van Satan betrokke E.C. Millard het gesê: “As ons nie enige teëstand in ons werk kry nie, moet ons op ons knieë gaan en sê: ‘Here, ek het ‘n baie voorspoedige tyd – daar móét iets verkeerd wees.’ Pas op vir voorspoed sonder enige teëstand! Wanneer ‘n persoon met die Heilige Gees vervul is, of hy belangrik en of hy onbelangrik is, sal Satan sê: ‘Ek moet alles moontlik doen om daardie Christen teë te staan.’ Laat ons die Here vra om ons met die moed van die Heilige Gees te vervul.”

Dr. A.B. Simpson het nooit ‘n gemaklike lewe verwag of gesoek nie. Hy het gesê: “Wat sou ons van Jesus gedink het as ons Hom aangetref het waar Hy na plesier soek en sy eie gerief probeer bevorder?” Die enigste kroon wat ‘n getroue volgeling van Jesus ooit van die wêreld of van ‘n vleeslike kerk sal kry, is ‘n doringkroon.”

Die duiwel val ook die gebedslewe van Christene aan in ‘n poging om hulle te laat ophou bid. A.P. Wilkes het gesê: “Dikwels wanneer ons bid voel ons die teenwoordigheid van die vyand aan, daardie muur van weerstand, die leë gevoel, die stilte van God, ons onvermoë om in sy teenwoordigheid te kom, en die gevoel dat gebed eintlik geen doel dien nie. Dit is die werking van die teëstander. ‘n Vasberade, gelowige beroep op alles wat die Verlosser deur die storting van sy bloed vir ons gedoen het, sal ons in staat stel om deur die muur van weerstand te breek, die vyand terug te dryf en van ons meer as oorwinnaars in die stryd te maak.” Ons moet die skild van geloof opneem (Ef. 6:16), wat ‘n vaste vertroue in die oorwinning van die Here Jesus op Gólgota is, en al die bose gedagtes van ongeloof, materialisme, rebellie en ontmoediging wat van die duiwel af kom, afweer. Geen plek moet aan die duiwel gegee word nie (Ef. 4:27). Dit is makliker om die vyand buite te hou, as om van hom ontslae te raak nadat hy reeds ingekom het.

Persoonlike toewyding

Ek het ‘n duidelike begrip van die intensiteit van die stryd tussen die koninkryke van God en Satan. Ek besef ook dat die belangrikste gevegsterrein in die harte en gedagtes van mense op die planeet aarde is. Satan probeer om die opperheerskappy te kry deur die meeste van die mense te mislei om God en sy verlossingsplan deur Jesus Christus te verwerp. Hy beïnvloed hulle om volgens die hartstogte van hulle gevalle natuur te wandel. Ek wy myself daaraan toe om my verhouding met die Here Jesus deur ‘n onwankelbare geloof in Hom te versterk. Ek kyk van my menslike swakhede af weg en vertrou slegs op wat Hy deur my kan doen. Ek sal elke dag my kruis opneem en die gekruisigde en verrese Verlosser volg op die weg waarop Hy my lei. Ek besef die noodsaaklikheid daarvan om vir leiding op die Here te wag, en ook eers te bid voordat ek besluite neem. Ek sal myself aan God onderwerp, die volle wapenrusting opneem en die duiwel weerstaan wat daarop ingestel is om dissipels van Christus aan te val, te ontmoedig en van die stryd uit te skakel. Ek sien uit na die wederkoms van die Here Jesus, en die groot oorwinning wat Hy oor die magte van die duisternis sal behaal.

Vrae

1.    Wat is die betekenis van die belydenis van sonde?

2.    Wat is ‘n heelhartige toewyding aan Christus?

3.    Waarom word die kruis as ‘n simbool van die Christendom beskryf?

4.    Verduidelik die rol van geloof in ‘n Christen se lewe, en sê ook wat ongeloof is.

5.    Hoe kan Satan jou mislei om van die pad van die Here af te wyk?

6.    Verduidelik hoedat die duiwel Christene aanval, en hoe ons hom kan teëstaan.