Print

Studie van die Boek Thessilonicense

Written by Prof Johan Malan.

Inleiding tot Thessalonicense

Paulus het op sy tweede sendingreis van Klein Asië af na Europa toe geseil en die evangelie in Filippi, Thessalonika, Berea, Athene en Korinthe verkondig. In daardie stadium het totale geestelike duisternis in Europa geheers, en afgodediens was aan die orde van die dag. ‘n Groot aantal afgode is deur die Grieke aanbid en tempels is ook vir hulle opgerig. Die verskillende gemeenskappe, insluitend hulle regerings, was aktief by afgodediens betrokke.

Die hele Romeinse Ryk was in hierdie heidense kultuur vasgevang, en die keiser was ook ‘n deel daarvan omdat hy homself tot God verklaar en mense se aanbidding geëis het. Politiek en godsdiens was só intiem met mekaar verweef dat die teëstanders van afgodediens ook regstreeks met die owerhede in botsing gekom het. Dit is die rede waarom Paulus en sy reisgenote van die begin af in Europa vervolg is. Hulle is nie net as ‘n bedreiging vir die afgodedienaars beskou nie, maar ook vir die voortbestaan van die Romeinse Ryk, omdat hulle ‘n ander koning, nl. Jesus, verkondig het. In Filippi, Paulus se heel eerste preekpunt in Europa, het hy in die tronk beland en moes inderhaas daarvandaan vertrek.

Om dieselfde rede is die jong gemeentes wat deur die bekeerlinge gevestig is, ook deur die meerderheid lede van die gemeenskap verwerp en vervolg. Paulus loof die Thessalonicense omdat hulle hul van die afgode bekeer en ten spyte van al die vervolging ‘n duidelike standpunt vir die Here Jesus ingeneem het. Hy loof hulle ook vir hulle vreeslose evangelisasieywer.

In sy twee briewe beklemtoon Paulus nie net die noodsaaklikheid van ‘n radikale bekering nie, maar ook van volkome heiligmaking, wat die Here van al sy kinders verwag. Hy gee ‘n duidelike beskrywing van die koms van Christus se koninkryk, asook van ‘n tyd van goddelike oordele oor almal wat aan die evangelie ongehoorsaam was. Omdat die Christene nie vir hierdie tyd van toorn bestem is nie, word die salige hoop van die wegraping voor die verdrukking aan hulle voorgehou. Hulle rol is dié van teëhouers teen die openbaring van die Antichris as die mens van sonde, daarom kom die Here hulle éérs haal voordat die ongeregtige geopenbaar kan word.

1 & 2 Thessalonicense is Paulus se belangrikste sendbriewe oor die eskatologie, en ons kan groot duidelikheid oor die Here se profetiese program vir die eindtyd kry as ons dit nougeset bestudeer. In 1 Thessalonicense 4 is een van die duidelike beskrywings van die opstanding van die regverdiges tydens die koms van Christus, asook die wegvoering van die gemeente direk daarna.

In sy tweede brief verstrek Paulus heelwat besonderhede oor die openbaring van die Antichris direk ná die wegraping. Hierdie twee briewe het verskeie verwysings na die tyd van Christus se wederkoms. Hierdeur word verseker dat die kerk van Christus ‘n duidelike bestemmingsbewustheid het, sodat alles wat gedoen word, teen die ewige belange van Christus se koninkryk opgeweeg kan word.

Verder gee Paulus aan die Thessalonicense insig in Satan se planne om die gemeentes van Christus te ondermyn. Hierdeur word dit duidelik by die lesers tuisgebring dat daar ‘n harde en bose werklikheid daarbuite is. Ons is nie hier om kerk te speel en mekaar met allerhande programme te vermaak nie, maar om andere deur ons getuienis soos brandhout uit die vuur te ruk en te skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag.

Dit het die Here Jesus se lewe gekos om versoening vir ons sonde te doen sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld (Gal. 1:4). Dit word ook van ons verwag om onsself vir hierdie groot werk aan te bied, naamlik die verkondiging van die evangelie aan ‘n verloregaande wêreld. Ons moet nooit die teëstand onderskat wat ons met hierdie werk sal kry nie, want Satan veg vir die belange van sy koninkryk. Hy hou niks daarvan as mense uit sy koninkryk van die duisternis verlos en dissipels van Jesus Christus word nie.

Paulus leer sy lesers om van hierdie teëstand en vyandigheid teen hulle kennis te neem, maar moedig hulle aan om die Here te vertrou om hulle van die Bose te bewaar. Lees hierdie briewe aandagtig en beoordeel jou eie geestelike lewe in die lig daarvan. Moenie moedeloos word as jy voel dat jy ver kortskiet aan God se standaard nie. Die Here Jesus wil ook vir jou geestelik versterk en toerus vir die stryd wat voorlê.

Soos wat Paulus die Thessalonicense die seën van volkome heiligmaking toebid, doen hy dit vir elkeen van ons ook: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24).

Daar is groot en wonderlike dinge wat die Here vir ons wil doen as ons onsself ten volle aan Hom oorgee en Hom vertrou om ons volkome heilig te maak. Hy sal ons gebruik in sy diens en dan sal ons die blye wete in ons harte hê dat ons lewens op aarde nie tevergeefs was nie.

 

1 Thess. 1: Geloof, Liefde en Hoop

Inleiding

Die stad Thessalonika is in die noorde van Griekeland aan die kus van die Egeïese See geleë. In Bybelse tye was Thessalonika die hoofsentrum en belangrikste hawe van die Romeinse provinsie Macedonië. ‘n Ander voordeel van die stad was dat dit op ‘n besige landroete geleë was, naamlik die Via Egnatia, wat van Rome af na die Ooste gelei het en ook deur Bisantium gegaan het, wat later Konstantinopel genoem is en tans as Istanboel bekend staan.

In Nuwe Testamentiese tye het daar nagenoeg 200 000 mense in die stad gewoon. Die groot meerderheid van hulle was Grieke, maar daar was ook heelwat Romeine, Jode en Asiate wat na hierdie welvarende handelstad gelok is. Daar was altyd ‘n groot sametrekking van Jode in plekke waar goeie sake-geleenthede bestaan het. Volgens Handelinge 17:1-4 was daar ‘n Joodse sinagoge in die stad waarby baie Griekse proseliete aangesluit het. Aangesien morele verval en afgodery in die stad aan die orde van die dag was, het baie van die nie-Jode hulle na die sinagoge gewend as die enigste plek waar vaste beginsels en morele standaarde verkondig en gehandhaaf is.

Thessalonika bestaan vandag nog en word Salonika genoem. Dit word deur meer as 300 000 mense bewoon. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi’s 60 000 Jode uit die stad verwyder en doodgemaak.

Op sy tweede sendingreis het Paulus eers die stede in Klein Asië besoek (dit is in die huidige Turkye) waar hy en Barnabas die evangelie tydens sy eerste sendingreis verkondig het. Saam met Silas, Timotheus en Lukas, het Paulus op hierdie tweede sendingreis verder tot by Troas gegaan, waar hy in ‘n visioen die roepstem van die Macedoniër ontvang het: “Kom oor na Macedonië en help ons!” (Hand. 16:9). In reaksie hierop het hy en sy reisgenote van Klein Asië af na Europa oorgevaar en by Filippi in Macedonië aangekom. Ná die wedervarings met Lidia, die purperverkoopster, en die tronkbewaarder in Filippi, moes hulle die stad verlaat (Hand. 16:9-40). Paulus en sy geselskap het toe 160 kilometer weswaarts op die Via Egnatia gereis totdat hulle by Thessalonika aangekom het (Hand. 17:1-9).

Die evangelie is in Thessalonika aan Jode én Grieke verkondig. Sommige van hulle het die boodskap aanvaar en tot bekering gekom, maar andere het dit verwerp en Paulus aktief teëgestaan. Die meerderheid ortodokse Jode het die evangelie van Christus as ‘n bedreiging vir Judaïsme gesien en valse gerugte teen Paulus versprei. Hulle het ook van die ongelowige Grieke teen Paulus opgesweep deur te beweer dat hy opstand teen die Romeinse Ryk aanmoedig omdat hy ‘n ander koning in die plek van die keiser verkondig. Die vervolging teen Paulus het toegeneem en veroorsaak dat hy die stad moes verlaat en verder na Berea en daarna na Korinthe gereis het.

Paulus het vir Timótheus na die gemeente in Thessalonika teruggestuur om na hulle welstand te verneem en verdere onderrig aan hulle te gee. Hy was baie bemoedig deur die verslag van Timótheus, maar het ook meer vrae van die jong gelowiges af ontvang. Dit het daartoe gelei dat hy twee briewe aan die Thessalonicense geskryf het terwyl hy in Korinthe was. Die eerste brief is vroeg in die vyftigerjare van die eerste eeu geskryf. Dit maak daarvan een van Paulus se vroegte geskrifte – moontlik die eerste een ná Galásiërs.

Aanhef en seëngroet (1:1-2)

In sy aanhef tot die brief gebruik Paulus die woord “ons.” Hy sluit vir Silas en Timótheus in, omdat hulle tydens sy tweede sendingreis sy medewerkers en ondersteuners was. Silas, of Silvanus soos die Romeine hom genoem het, was Paulus se sekretaris vir die skryf van sy briewe. Timótheus was ‘n medewerker wat deur Paulus op sy eerste sendingreis tot geloof in Christus gelei is. Paulus beskryf die geadresseerdes as “die gemeente van God.” Dit beteken dat hulle die “uitgeroepenes” in Thessalonika is – dit is diegene wat positief op God se roeping gereageer het om deur Jesus Christus gered te word. God se roeping tot redding gaan volgens Handelinge 17:30 na alle mense uit, daarom verwerp die ongereddes self hulle roeping én die saligheid wat in Christus aan hulle gebied word. Hulle is vir hulle eie ondergang verantwoordelik.

Die geadresseerdes word verder gekwalifiseer as ‘n groep wat “in God die Vader en die Here Jesus Christus is.” Paulus het dit in sy prediking duidelik aan die Thessalonicense gestel dat Jesus die Christus is, dit is die Gesalfde van God, en dat Hy een met die Vader is. Jesus is self net soveel God as wat die Vader en die Heilige Gees God is. In sy seëngroet sê Paulus: “Genade vir julle en vrede.” Dié twee woorde kom altyd in hierdie volgorde voor, want God se genade en goedgunstigheid teenoor ons is die grondslag vir sy vrede in ons harte.

In vers 2 sê Paulus: “Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede.” Danksegging teenoor God is ‘n wesenlike en uiters belangrike deel van elke Christen se lewe. Dit maak nie saak wat die omstandighede is waarin ons verkeer nie – die genadegawes van God is altyd baie meer oorvloedig as die gevare wat dreig. Aan danksegging is daar geen beperking nie, want dit moet “altyd” beoefen word en deur “almal.” God is onveranderlik en sy genadegawes aan dié wat in Hom glo is onophoudelik, daarom behoort ons Hom ook altyddeur te dank en te prys. Aangesien alle dinge vir ons ten goede meewerk, dank ons die Here vir alles en almal.

Geloof, liefde en hoop (1:3)

Paulus noem drie uitstaande kenmerke van hierdie gemeentelede, naamlik die werke van hulle geloof, die arbeid van hulle liefde en die lydsaamheid van hulle hoop. Hulle het dus nie by blote gesindhede volstaan nie, maar in hulle geestelike lewe daadwerklik tot aksie oorgegaan. Geloof sonder werke is dood (Jak. 2:14,17). Die eerste werk van ‘n gelowige is om homself vanaf sy sondige verlede tot die Here Jesus te bekeer. Paulus prys hierdie gemeente omdat hulle hul van die afgode bekeer het (1:9). Die tweede vorm van werke in ‘n Christen se lewe is liefdediens aan God én ons naaste. Paulus gee erkenning aan die feit dat die gemeente die lewende en waaragtige God dien (1:9). Die derde groep werke staan in verband met die lydsaamheid van die hoop, en dui op volharding onder moeilike omstandighede. In 2 Thess. 1:4 verwys Paulus na die gemeente se volharding en geloof onder al die vervolging en verdrukking wat hulle verduur het. Die lydsaamheid van die hoop beteken dat ons te midde van vervolging en die felle aanslae van die Bose op die pad van die Here sal volhard, terwyl ons altyd die hoop op sy wederkoms koester. Dit is ‘n reinigende hoop, want elkeen wat die hoop op Christus se koms het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 3:3). Hoop lei dus ook na werke in ‘n Christen se lewe.

Christenskap is ‘n dinamiese lewe van diensbaarheid. Die Here Jesus het die volgende oor die verpligtinge gesê wat die evangelie op ons lê: “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen” (Joh. 13:17). Hy het ook gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). Ons moet godvresend wees, met ander woorde rein van hart, én ook die Here dien as ons by Hom in guns wil wees en deur Hom verhoor wil word (Joh. 9:31).

Dit is op hierdie belangrike punt dat baie mense se geestelike lewe plat val – hulle bely wel die Here met hulle lippe, maar skram altyd weg as daar werk in die koninkryk gedoen moet word. Óf hulle beskou hulself nie as bevoeg om die werk te doen nie, óf hulle het nie tyd nie, óf dit is benede hulle waardigheid, óf die vergoeding is nie na wense nie. Dit mag wees dat hulle net ongemotiveerd en lui is, of dalk bang vir vervolging. Paulus het vir die Korinthiërs gesê: Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Selfdissipline is baie nodig.

Mense wat nie die Here aktief dien nie, sal volgens 2 Kor. 13:5 ernstig hulle geloof moet ondersoek of dit ‘n ware geloof is, want ‘n ware geloof móét deur werke van geloof gevolg word: “Dra dan vrugte wat by die bekering pas” (Matt. 3:8). Hoe staan dit met jou werke van geloof, die arbeid van jou liefde en die lydsaamheid van jou hoop?

Niemand van ons word deur werke gered nie, maar net deur geloof (Ef. 2:8-9). Ná ons redding moet ons hele lewe egter deur geloofs- en liefdeswerke gekenmerk word, wat deur die Heilige Gees voortgebring word. Ons is “in Christus Jesus tot goeie werke geskape wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Ef. 2:10). Ons is almal tot getuies van Christus geroep (Hand. 1:8). Indien ons nie daadwerklik uitvoering aan die Groot Opdrag gee nie, sal die ongeredde wêreld verlore gaan en die Here Jesus sal hulle bloed van ons hande eis (Eseg. 33:8). Het jy al vir diens aangemeld om deur die Here in sy koninkryk gebruik te word?

Broederskap en verkiesing (1:4-5)

Paulus kan ten nouste met hierdie gemeente identifiseer omdat hulle ‘n lewende geloof gehad het, daarom noem hy hulle broeders in Christus (1:4). Hy het homself geensins op ‘n troontjie geplaas omdat hy die evangelie aan hulle verkondig het nie. Die evangelie het in elk geval, volgens vers 5, deur die krag van die Heilige Gees na hulle toe gekom en nie deur sy eie vermoëns nie. Om dié rede is hy op dieselfde vlak as die Thessalonicense en is hulle sy broers in die Here Jesus. Die lede van die liggaam van Christus is gelykwaardig en vervul aanvullende rolle vir die goeie funksionering van die hele liggaam (1 Kor. 12:14-27).

Daar het ‘n groot verandering in Paulus se lewe ingetree sedert die tyd voor sy bekering toe hy ‘n hoogmoedige Fariseër was, tot in hierdie stadium waarin hy homself op ‘n gelyke vlak met gelowiges uit die heidense nasies gereken het. In die kerk van ons tyd is daar heeltemal té veel verskil tussen predikante en gemeentelede. Daar moet ‘n groter broederlike samewerking, ‘n benutting van elkeen se vermoëns en talente, en ‘n gesamentlike afhanklikheid van die krag van die Heilige Gees in die gemeente geopenbaar word.

Paulus verwys ook in vers 4 na die gemeente se verkiesing deur die Here. Daar was ‘n tyd, gedurende die Ou Testament, toe Israel God se uitverkore volk was en al die ander volke as heidene beskryf is. Selfs in Israel is lede van die uitverkore volk egter nie outomaties gered nie. Hulle moes ‘n verhouding met die Here hê en in sy weë wandel, sodat Hy ook hulle harte kon besny. Volgens 1 Kor. 10:5 het die Here in die meeste Israeliete geen behae gehad nie, omdat hulle moedswillig in goddeloosheid geleef het. As gevolg daarvan het Hy hulle verwerp.

In Nuwe Testamentiese tye het God se roeping tot redding na alle mense op aarde uitgegaan. Paulus het vir die Grieke in Athene gesê: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Hand. 17:30). Paulus het ook vir Timótheus gesê: “God, ons Verlosser, wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:3-4). Die Thessalonicense was dus deel van God se universele roeping en verkiesing wat aan alle mense op aarde verkondig moet word.

Hulle het by Paulus die goeie nuus verneem “dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan die belofte in Christus deur die evangelie” (Ef. 3:6). Elke persoon uit elke nasie wat positief op hierdie wêreldwye roeping en verkiesing reageer, word weergebore en kry die mag om ‘n kind van God genoem te word (Joh. 1:12).

Die keuse berus by elke individu om op die Here se verkiesing en roepstem tot redding te reageer. Die wat nie Christene wil word nie, word nogtans geroep en het ‘n gelyke kans met alle ander mense om gered te kan word. As hulle egter die Heilige Gees weerstaan en sodoende God se roeping verwerp, sal hulle geoordeel word. “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Joh. 3:36). “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam?” (Heb. 2:3).

Die gelowiges in Thessalonika het hulle grootliks verbly omdat hulle deur die geloof deelgenote van die liggaam van Christus geword het. Hulle het hulleself van harte toegewy aan die opdrag om getuies vir Christus te wees, en was ook bereid om ter wille van sy Naam te ly.

Voorbeelde van hulle geloof, liefde en hoop (1:6-10)

Hierdie gemeente het die Woord van die Here in baie verdrukking ontvang, maar nogtans in die blydskap van die Heilige Gees (1:6). Hulle het nie onrealistiese verwagtings oor die onmiddellike openbaring van God se koninkryk op aarde gekoester nie, omdat hulle geweet het dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê (vgl. 1 Joh. 5:19; Ef. 6:12). Hulle was bereid om verdrukking en vervolging vir die Woord te verduur, omdat hulle besef het dat die kerk van Christus in ‘n stryd teen bose magte gewikkel is. Dit was vir hulle ‘n eer om vir Christus te ly, daarom het hulle die blydskap van die Heilige Gees te middel van al die aanslae ervaar. Paulus het hulle vermaan om nie verontrus te word onder die verdrukkinge nie, omdat hulle daarvoor bestem is (3:3).

Petrus sluit ook by hierdie gedagte aan, naamlik die noue verband tussen verdrukking en blydskap. Hy sê: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Pet. 4:12-13; vgl. Luk. 6:22-23). Wat die hantering van verdrukking betref, was die Thessalonicense, deur die krag en blydskap van die Heilige Gees, ‘n inspirerende voorbeeld vir baie ander.

Hulle was ook ‘n voorbeeld deurdat hulle geloof tot praktiese werke van geloof gelei het. Hulle het hulle geloof in Christus met ander mense gedeel, tot in plekke ver anderkant Thessalonika. Paulus sê: “Van julle uit het die woord van die Here weerklink, nie alleen in Macedonië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan” (1:8). Wat ‘n getuienis oor die evangelisasie-ywer van hierdie klein maar dinamiese gemeente! Paulus het nie luidsprekers, radiostasies, tv-netwerke, klankkasette, cd’s en dvd’s tot sy beskikking gehad nie, maar deur hierdie gemeentelede se persoonlike getuienis het die boodskap van verlossing oral in die omtrek onder baie mense weerklink.

‘n Mens kan nie anders as om onder die indruk te kom dat daar in die vroeë Christelike kerk iets was wat in ‘n groot mate in die moderne kerk ontbreek nie. Die antwoord is sekerlik geleë in die feit dat hulle onder die leiding van die Heilige Gees tot werke van geloof en liefdes-arbeid toegewy was, en ook bereid was om dit onder uiters moeilike omstandighede te doen. Hulle liefde vir die Here Jesus én vir ‘n verloregaande wêreld was ‘n sterk motiverende krag in hulle lewe. Hulle het nie vir die wêreld geleef nie, maar vir ‘n koninkryk wat nog kom.

Die lydsaamheid van hierdie gemeente se hoop word in vers 10 as ‘n lewende wederkomsverwagting beskryf. Die vroeë kerk het nie geweet hoe lank dit sou wees voordat die Here weer kom nie, en het verwag dat dit selfs nog in hulle eie leeftyd kon wees. Hier is dus nog ‘n rede waarom hulle so gou ná hulle bekering toegewyde kinders van die Here was wat met vrymoedigheid vir Hom getuig het. Christene van vandag het nog meer rede om te weet dat ons naby aan die einde van die kerkbedeling is, en dat Jesus spoedig sy kinders sal kom haal.

Tóg sien ons dat die groot kerke in ons dag in ‘n bejammerenswaardige toestand van formalisme, passiwiteit en verwagtingloosheid verkeer. ‘n Kerk sonder ‘n duidelike toekomsverwagting raak aardgebonde, hou homself met humanisme en liberale politiek besig, en is hoegenaamd nie in staat om ‘n suiwer weerklank van die evangelie te produseer nie.

Om slegs te weet dat daar iets soos ‘n wederkoms is, is nie goed genoeg nie. Die inhoud van vers 10 maak dit duidelik dat ons sekere detail van die wederkoms kan ken en verstaan, en dat ons beslis kan verwag om van die toekomstige toorn verlos te word. Paulus sê ons moet God se “Seun uit die hemele verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus, wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1:10).

Jesus verlos die gelowiges nie net in ‘n algemene sin van God se toorn oor die sondaars in die poel van vuur nie, maar ook spesifiek van God se toorn wat nog voor Christus se wederkoms oor ‘n sondige mensdom uitgestort gaan word. Hierdie tyd van oordele staan as die groot verdrukking bekend, soos in Openbaring 6 tot 19 beskryf. Die Here Jesus het ook in Mattheus 24:21 gesê dat daar ‘n groot verdrukking kom soos daar nog nooit op aarde was nie, en in Matt. 24:29-30 het Hy bevestig dat sy sigbare wederkoms direk ná hierdie tyd van verdrukking en goddelike oordele sal volg.

Die belofte dat die Here Jesus sy ware kerk uit die toekomstige toorn gaan verlos, beteken baie duidelik dat gelowiges nie deur die groot verdrukking sal gaan nie. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Dit is die salige hoop van die kerk van Christus dat ons nie vir die toorn van God bestem is nie, omdat Hy ons kom haal. Ons is wél vir verdrukking in ‘n verdorwe, goddelose wêreld bestem, maar nie vir God se oordele in die groot verdrukking nie.

Net so seker as wat Noag en Lot God se oordele in hulle tyd ontvlug het, sal ons dit ook in die eindtyd ontvlug. Die Here Jesus het in Lukas 17:26-36 aangedui dat daar ‘n herhaling van Noag en Lot se tyd op aarde sal wees. Dit geld nie alleen die boosheid en gewelddadigheid van Noag se tyd en die sonde van wydverspreide homoseksualiteit in Lot se tyd nie, maar ook God se ingryping om die ware gelowiges weg te neem voordat sy toorn oor die sondaars uitgestort word. Verwag jy ook God se Seun wat ons van die toekomstige toorn sal verlos?

 

1 Thess. 2: ‘n Ware Christelike Bediening

In die eerste hoofstuk was redding en bekering aan die orde, asook werke wat by die bekering pas. Dinamiese Christenskap moet noodwendig na godsvrug lei, en die bereidwilligheid om verdrukking ter wille van Christus te verduur. Ons hoop moenie op tydelike dinge gevestig wees nie, maar op die ewige koninkryk van God. In die eerste hoofstuk is ‘n stewige fondament gelê wat as ‘n vertrekpunt dien vir die bespreking van ander aspekte van die Christelike lewe en bediening. In hoofstuk 2 bespreek Paulus die aard van sy eie bediening onder die Thessalonicense omdat vyandige mense valse motiewe aan hom toegeskryf het. Hy weerlê hierdie bewerings en wys op die regte ingesteldheid en benadering wat deur elke prediker en evangelis gevolg moet word.

In hoofstuk 2:1 wys hy daarop dat sy bediening onder die Thessalonicense nie tevergeefs was nie, maar vrug vir die koninkryk van die hemel opgelewer het. Hy het nie net toesprake gehou of lesings gelewer nie, maar boodskappe gebring wat deur die krag van die Heilige Gees mense se harte en lewens verander het. Daar is egter vandag duisende kerke waarin die bediening tevergeefs beoefen word – dit is gemeentes waarin daar nie meer getuienisse van redding gehoor word nie, en waar die vrug van die bediening nie in die lewens van mense gesien kan word nie. Dit was nie die geval in Thessalonika nie.

Omdat Paulus die ware evangelie verkondig het, het hy gely en is mishandel, maar dit het hom geensins van stryk gebring nie. Hy het sy vrymoedigheid behou en op hierdie moeilike weg voortgegaan. Paulus en sy reisgenote was nie op ‘n vakansie-uitstappie nie. Nadat hulle in Filíppi vals beskuldig, geslaan en in die tronk gegooi is (Hand. 16:22-24), het hulle na Thessalonika gegaan om dieselfde boodskap daar te verkondig. Dit is juis hierdie vreeslose vrymoedigheid wat meegebring het dat hy in ‘n dorp kon instap waar die evangelie nog nooit gehoor is nie, en dan sy boodskap in sinagoges én ander plekke kon verkondig sonder dat dit tevergeefs was.

Wanneer Paulus sê dat die evangelie onder veel stryd verkondig is, bedoel hy veel meer as net fisiese vervolging. Die Engelse woord “agony” is van die Griekse woord afgelei wat hier as “stryd” vertaal word. In teenstelling met die lyding en mishandeling wat uiterlik en fisies was, dui hierdie woord ook op ‘n innerlike, geestelike stryd wat teen Satan en sy magte gevoer moet word. In vers 3 sê Paulus dat daar in ‘n oorlogsituasie teen die Bose nie sprake van verkeerde bedoelings en menslike bymotiewe in sy bediening kon wees nie. As daar verkeerde bedoelings was, dan sou hy in die situasie van stryd en mishandeling al lankal moed opgegee het. Hy sê in vers 3 dat sy vermanings nie uit dwaling, onsuiwerheid of bedrog was nie.

Hoeveel teologiese dwalings en onsuiwerheid word vandag nie op ‘n bedrieglike wyse as die waarheid aangebied nie! Dit het in Paulus se tyd al gebeur, maar hy het voorsien dat dit in die eindtyd nóg ‘n veel groter omvang sou aanneem. Hy het in sy laaste brief vir Timótheus geskryf: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim 4:2-5).

Wat is die dwalings en onsuiwer boodskappe wat vandag so populêr en aan die orde van die dag is? Baie daarvan het met die misplaaste koninkryksteologie te doen. Die leuen word verkondig dat die koninkryk van God hier en nou, nog voor die wederkoms van Christus, sigbaar op aarde gevestig moet word. Dit moet met groot tekens en wonderwerke gepaard gaan, die Christendom moet deur spesiale apostels en profete beheer oor die wêreld oorneem, alle kerke én die hele mensdom moet verenig word om in harmonie saam te bestaan, en daar moet materiële voordele vir almal voortvloei.

Die einddoel met koninkrykstransformasies is die einde van armoede, werkloosheid, siektes, verdrukking en misdaad. Voorspoed en vrede sal volgens hulle oor die verenigde mensdom neerdaal en almal sal mekaar sonder veroordeling aanvaar. Alle geloofsoortuigings, alle seksuele oriëntasies, alle kulturele gebruike en alle ideologieë sal aanvaar word en in vrede naas mekaar bestaan, wat beteken dat die mens volkome bevry sal wees om sy eie god te wees wat sy eie lewenswyse bepaal. Om hierdie doel te bereik, moet die suiwer evangelie glad nie verkondig word nie, want daardeur word mense se sondige gebruike geopenbaar en word daar van hulle verwag om hulle daarvan te bekeer. In plaas van sonde, moet menslike vryhede en onderlinge aanvaarding verkondig word. Dit vereis dat daar ook ‘n ander Jesus verkondig moet word, naamlik die kosmiese Christus van die hele mensdom. Hy kom nie om te veroordeel nie, maar om met almal kompromie te maak en die hele wêreld te verenig. Hierdie valse christus wat in verwondering deur die hele mensdom nagevolg sal word, en vir wie hulle in massas hulle harte sal oopstel, sal volgens Openbaring 13:3-4 die Antichris wees.

Paulus het homself hoegenaamd nie met ‘n valse teologie van dié aard besig gehou nie. Hy het nooit die woord “kompromie” gebruik nie, want sy boodskap het op ‘n radikale bekering uit mense se sondige verlede aangedring. Die Here Jesus sê dat Hy Paulus na die heidene gestuur het “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:17-18). ‘n Bekering van hierdie aard bring enige persoon in konflik met mense wat geestelik nog in die duisternis wandel, ongeag of hulle afgode aanbid, geen geloof aanhang nie of dalk ongeredde vormgodsdienstiges is.

Konflik beteken stryd en vervolging. Dit is waarom Paulus vir Timótheus gesê het dat hy bereid moet wees om verdrukking te ly terwyl hy sy bediening vervul. Hy het ook vir hom gesê dat as ons verdrukking ter wille van ons geloof verdra, ons eendag saam met Christus sal regeer (2 Tim. 2:12). Vir die Christene in Rome het hy gesê dat as ons saam met Christus ly, ons ook saam met Hom verheerlik sal word (Rom. 8:17).

In die huidige bedeling wag daar dus vir die ware Christene stryd en konflik met ‘n verdorwe en vormgodsdienstige wêreld, maar wanneer Christus kom en sy koninkryk openbaar, sal ons met Hom verheerlik word en ook saam met Hom regeer. Ons is nie nóú konings wat regeer nie, maar soldate vir die kruis. Ons is vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld, daarom moet ons die volle wapenrusting van God aantrek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Dit is ‘n futiele oefening om nou transformasiebyeenkomste te hou met die oog daarop dat God se koninkryk op aarde moet neerdaal. Dit sal eers gebeur wanneer die Koning kom!

Paulus bewys die suiwerheid van sy prediking nie net uit die stryd en vervolging wat hy ervaar het en die verandering wat daar in die lewens van sy toehoorders plaasgevind het nie, maar in vers 4 en 5 roep hy God ook tot getuie – Hy wat hom geroep, waardig geag en die evangelie aan hom toevertrou het. Enige ware dissipel van Jesus handhaaf ‘n noue verhouding met Hom omdat hy sy opdrag én geestelike toerusting net van Hom af kry.

Roepingsbewustheid is vandag ‘n baie groot gemis in Christene se lewens. Baie van hulle besef nie dat ons ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus het (Fil. 3:14) om heilig te leef en getuies vir Christus te wees nie. Dit geld vir almal van ons – mans en vrouens, oud en jonk. Die Here Jesus het vir sy dissipels gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Hy het ook gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria, en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).

Roepingsbewustheid wek nederigheid en afhanklikheid van die Here. Dit bring ‘n besef van verantwoordelikheid teenoor die Here mee om die evangelie as kosbare skat met andere te deel en terselfdertyd met jaloersheid oor die suiwerheid daarvan te waak. Roepingsbewustheid is die vrug van wedergeboorte en geloofsekerheid. Die persoon wat sekerheid van saligheid het, besef sy of haar verantwoordelikheid om die Here te dien en sodoende vrug te dra wat by die bekering pas. Die roepingsbewuste dissipel spreek nie om mense te behaag nie, maar verkondig met groot vrymoedigheid al die implikasies van die evangelie. Daar is ‘n kosteberekening aan verbonde om jouself te verloën as jy werklik die Here wil behaag en deur Hom gebruik wil word.

Daar was ook kwaadsprekers in Thessalonika wat Paulus van vleitaal en hebsug beskuldig het. Dit was egter nooit deel van sy mondering nie en hy het homself teen hierdie aansprake verdedig. Hy het gesê: “Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie. Ook het ons nie die eer van mense, óf van julle óf van ander, gesoek nie” (2:5-6).

Vleitaal is om ‘n valse vrede te verkondig, om mense te prys wanneer hulle dit nie verdien nie, en om mense wat nog nie werklik tot bekering gekom het nie, van die kansel af salig te spreek omdat hulle reeds gedoop is en op grond daarvan as verbondskinders van die Here beskou word. Hierdie vorm van vleitaal is ‘n groot sonde wat baie algemeen gepleeg word en waarvoor daar nog duur betaal gaan word. Die toegang tot God se genade is deur die bloed van die Lam en deur sondebelydenis, en nie deur die doop of kerklidmaatskap nie.

Paulus het nooit die evangelie verkondig uit hebsug of vir persoonlike gewin nie. Dit staan in skrille kontras met baie van vandag se groot predikers wat in absolute weelde leef. Paulus het ook nie die eer van mense gesoek nie. Om gewild te wees en deur die gemeenskap geëer en erken te word, is die natuurlike strewe van enige persoon, maar dit is juis hierdie eienskap wat mense kompromie laat maak. Hoe dikwels gebeur dit nie in ons tyd nie dat mense ter wille van aansien en bevorderingsmoontlikhede hulle streng Christelike, volksnasionalistiese oortuigings op die agtergrond skuif en hulle steun aan ‘n modernistiese gelykmakingsbeleid verleen wat tot wêreldgelykvormigheid lei. Die Heilige Gees moet ons gemoed vernuwe sodat ons ons natuurlike strewe na aansien en hebsug kan oorkom en na vaste Bybelse beginsels terugkeer wat nie deur humanistiese idees en wêreldse ideale beïnvloed word nie.

In vers 7 tot 12 beklemtoon Paulus sy verbintenis tot die liefdevolle versorging van die gemeente, soos wat ‘n moeder haar kinders versorg en ‘n vader sy kinders onderrig en vermaan. Hy was ‘n ware herder vir hulle. Sy pastorale bediening was nie onpersoonlik en teoreties nie, maar hy het self die eienskappe uitgeleef wat hy van ander verwag het om te doen. Hy het geskryf: “Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo... julle [moet] waardig wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep” (2:10,12).

Liefdevolle interpersoonlike kontak is ‘n uiters belangrike aspek van gemeentebou. Die Nuwe Testament is vol van die praktiese liefde van die Here Jesus wat in ons lewens moet neerslag vind. Johannes sê: “God is liefde... Hy het ons liefgehad en sy Seun gestuur as ‘n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê” (1 Joh. 4:8-11). Sonder hierdie opregte liefde sal die gemeente nooit as ‘n liggaam kan funksioneer om sy taak en roeping uit te voer nie. In vers 9 beklemtoon Paulus die feit dat hy, gedring deur die liefde van Christus, dag en nag gewerk het om die evangelie te verkondig.

Vers 10 gebruik drie woorde om Paulus se gesindheid en status voor die Here te beskryf, naamlik heilig, regverdig en onberispelik. Die boodskap wat hy aan die gemeente gebring het, was nie net in woorde nie, maar is deur sy persoonlike heiligheid en onberispelike optrede bevestig. Christene besef nie altyd dat daar mense is wat hulle fyn dophou nie, ook uit ander bevolkingsgroepe, om sodoende ‘n antwoord te probeer kry of Jesus werklik lewe en of Christenskap ‘n lewende verhouding met Hom is, soos wat ons voorgee dat dit is. Tot watter oortuiging sal mense kom as hulle na jou lewe kyk? Miskien is daar nog baie dinge in Paulus se lewe waarvan ons navolgers moet word. Vir die Korinthiërs het hy gesê: “Wees my navolgers, soos ek dit van Christus is” (1 Kor. 11:1).

In verse 13 tot 16 word die reaksie van die toehoorders op Paulus se prediking beskryf. Paulus maak dit duidelik dat die enigste gesag wat hy gehad het, dit is wat hy van God ontvang het. Indien mense na sy preke sou luister as sou dit preke van die mens Paulus wees, dan sou dit van geen waarde gewees het nie omdat Paulus in homself niks was nie. Hy is dankbaar dat die mense die boodskappe as God se woord aanvaar het: “Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo” (2:13). Hierdie mense het ‘n leerbare gees gehad en hulleself vir die woord van die Here oopgestel. Hulle het die gesag daarvan aanvaar, hulleself volgens die eis daarvan bekeer, en nie regverdiging vir hulle eie sondes gesoek nie.

Ongelukkig kan prediking nie altyd as die woord van God aanvaar word nie, omdat daar baie valse leraars is wat valse boodskappe bring. Behalwe dat die prediker se eie lewe van die egtheid van sy boodskap moet getuig, moet die hoorders ook self die Skrifte ondersoek om die waarheid daarvan vas te stel. Alles wat in stryd met die Woord is, moet verwerp word.

Een van die bewyse dat die suiwer woord van God onder die Thessalonicense gewerk het, is volgens vers 14 tot 16 die feit dat dit tot vervolging aanleiding gegee het. Die Griekse woord vir getuienis, “marturia,” het in die mond van die Christene die betekenis van “martelaarskap” (Eng. martyrdom) bygekry omdat die ware Christene vroeër of later wél vir Christus gely het. Joodse gelowiges is deur hulle eie stamgenote vervolg. Dit gebeur ook onder ander volke dat Christene soms hewig deur hulle eie familie gekritiseer en vervolg word wanneer hulle getroue en heelhartige navolgers van die Here Jesus word.

Volgens vers 16 kom die toorn van God tot die einde oor dié Jode wat die evangelie van Christus vyandig is. Opkomende geslagte wat dieselfde houding inneem, maak die maat van hulle vaders se sondes vol. Dit is die rede waarom Israel ná die verwerping en kruisiging van Christus en die vervolging van die vroeë Christelike kerk, uit hulle land verdryf is en ballinge in die wêreld geword het (Matt. 23:37-39; Luk. 19:41-44; 21:20-24). Die ergste toorn van God sal gedurende die komende verdrukking, wat die tyd van benoudheid vir Jakob sal wees, oor hulle kom (Matt. 24:15-22; Jer. 30:7). ‘n Gelowige oorblyfsel van die volk sal egter gered word (Sag. 12:10) en al die Messiaanse beloftes in hulle eie land beërf.

Ongeredde lede van die nasies wat ook vir Jesus Christus en sy evangelie verwerp, verkeer self onder God se toorn en sal saam met die ongeredde Israel in die groot verdrukking beland. Daar is geen ware lewe of toekoms vir enige mens op aarde buite die Here Jesus nie.

Soos alle ander hoofstukke in hierdie brief, word hoofstuk 2 ook met ‘n gedagte oor die wederkoms van Christus afgesluit. Paulus sê vir die gemeente: “Wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? Want julle is ons eer en blydskap” (2:19-20).

Paulus hou die profetiese vergesig van Christus se wederkoms aan die gemeente voor. Hy wil hulle laat verstaan dat alles wat ons in hierdie lewe doen, in die lig van die ewigheid beoordeel moet word. Ons moenie na verganklike beloning in ‘n verbygaande wêreld soek nie, maar na krone in die teenwoordigheid van Jesus Christus voor sy regterstoel. Aan die gemeente in Rome het hy gesê: “Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word... So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:10).

Een van die krone wat aan getroue dissipels toegeken sal word, is die kroon van roem vir sielewenners. Die gemeente in Thessalonika het uit mense bestaan wat onder Paulus se prediking vir die koninkryk van God gewen is. Hiervoor sal hy eendag genadeloon kry. Sy ingesteldheid was nie om op aarde ryk en belangrik te wees nie, maar om by Christus se wederkoms as ‘n getroue dienskneg bevind te word.

Paulus het homself uitgestrek na ‘n koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie, maar wat by die koms van die Koning geopenbaar sal word. Aan die Filippense het hy gesê: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Fil. 3:20). Streef jy na aardse belange en beloning, of na die koms van ‘n hemelse koninkryk waarin die heiliges wat deur die huidige wêreld verwerp en vervolg word, saam met Christus sal regeer? Ons kan nie die wêreld én die Here dien nie.

Baie Christene doen nie werke met ewigheidswaarde nie en sal eendag met leë hande voor Christus verskyn – gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15). Lei jou aardse lewe in die lig van die Here Jesus se wederkoms en berei jou voor om aan Hom rekenskap te gee oor hoe jy jou talente gebruik het. As jy sy koms verwag, sal jy jouself ook beywer om sy koninkryk wat tans nog verborge is, op aarde uit te brei. Jy sal ook bereid wees om die goeie stryd van die geloof te stry en nie deur ‘n verdorwe wêreld beïnvloed of ontmoedig te word nie.

Aan die einde van sy aardse lewe het Paulus aan Timótheus geskryf: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:7-8). Sy loon vir getroue en selfverloënende arbeid sal hy eers in die komende dag van die Here kry.

 

1 Thess. 3: Volharding in die Christelike Lewe

Aan die einde van hoofstuk 2 het Paulus die begeerte uitgespreek om weer die gemeente in Thessalonika te besoek: “Maar nadat ons, broeders, ‘n kort tydjie van julle geskeie was – in persoon, nie met die hart nie – het ons met groot verlange ons des te meer beywer om julle aangesig te sien. Daarom wou ons na julle toe kom, ek Paulus, meer as een maal; maar die Satan het ons verhinder” (2:17-18).

In ons tyd is daar ook ontsettend baie werkinge en hindernisse van Satan teen die evangelie en die Christene. Ons moet hiervan kennis neem en dit teëstaan. Hy is ‘n bedrieër wat leuens, valse gerugte en valse leerstellings versprei, maar hy stel ook allerlei ander planne in werking om die belange van God se koninkryk te benadeel en aan te val. Paulus het van hierdie soort ondermyning kennis gedra, daarom sê hy van Satan: “Ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Kor. 2:11). Hoe kan ons weerstand bied as ons nie van die vyand en sy planne bewus is nie?

Waarom laat die Here stryd en aanvegtinge van hierdie aard teen ons toe? Sodat ons getoets kan word, geestelik sterk kan word en kan leer om meer as oorwinnaars in Christus Jesus te wees. Die gemeente in Thessalonika moes leer om die Here te vertrou, die Skrifte te ondersoek en self antwoorde op hulle vrae te kry. In die proses moes hulle geestelik selfstandig word. Daar was ook ‘n ander, baie belangrike rede waarom die Here nie toegelaat het dat Paulus na Thessalonika kon terugkeer nie. Deur hierdie omstandighede is hy gedwing om dit wat hy vir die gemeente wou sê, op skrif te stel.

As gevolg hiervan het miljoene ander Christene reg oor die wêreld die voordeel gehad om Paulus se onderrig, vermanings en bemoediging aan die gemeente te kon lees. Dit geld vir al 14 briewe van Paulus wat in die Nuwe Testament opgeneem is. Hierdie briewe vorm deel van God se geïnspireerde Woord aan Nuwe Testamentiese gelowiges. In die lig hiervan maak dit ook sin waarom Paulus verskeie jare lank in die tronk deurgebring het. Dit het hom nie alleen gedwing om aan die verskillende gemeentes te skryf nie, maar sy persoonlike voorbeeld en sware lyding vir die Here Jesus het ook ‘n stempel van egtheid op die evangelie geplaas wat hy verkondig  en uitgeleef het. Geen opoffering was vir hom te groot nie.

In hoofstuk 3 lees ons dat toe Paulus deur groot verlange oorval is, hy vir Timótheus na die gemeente gestuur het. Daar was ‘n groot benoudheid in sy hart oor die vervolging wat die jong Christene in Thessalonika gely het, en hy wou hulle bemoedig en versterk. Toe dit duidelik was dat hy nie kon gaan nie, het hy vir Timótheus na hulle toe gestuur. Hy skryf:

“Daarom, toe ons dit nie langer kon uithou nie, het ons besluit om in Athene alleen agter te bly; en ons het Timótheus, ons broeder en dienaar van God en ons medewerker in die evangelie van Christus, gestuur om julle te versterk en julle te bemoedig in julle geloof, sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is. Want ook toe ons by julle was, het ons julle vooruit gesê dat ons verdruk sou word, soos dit ook gebeur het en soos julle weet. Daarom, toe ek dit nie langer kon uithou nie, het ek ook gestuur om julle geloof te wete te kom, of die versoeker julle nie miskien versoek het en ons arbeid tevergeefs sou wees nie” (3:1-5).

Die groot rede vir Paulus se verlange en besorgdheid was of Satan nie dalk van die jong gelowiges mislei het om die geloof prys te gee en na hulle heidense lewenswyse terug te keer nie. In dié geval sou sy arbeid onder hulle tevergeefs gewees het.

Dit is ‘n onbetwisbare feit dat sommige Christene onder Satan se versoekings swig, terugval en weer volhardend begin sondig. Hulle veragter in die genade in plaas daarvan dat hulle in kennis en genade toeneem (vgl. 2 Pet. 3:17-18). Daar is verskillende grade van terugval. Sommige stagneer net in hulle geestelike lewe wanneer hulle nie die ervaring van heiligmaking deelagtig word nie, en bly dan vleeslike Christene wat nie geestelik opgroei nie. Vir die Korinthiërs het Paulus gesê: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus... Aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3). Hulle het só min van die Heilige Gees se werk geweet dat Paulus vir hulle moes vra: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:16).

Die Galásiërs is erg deur hom verkwalik omdat hulle ná ‘n goeie begin in hulle geestelike lewe veragter het en in die vlees geëindig het (Gal. 3:1-3). Daar was ook diegene in Galásië wat die wet saam met die Christelike evangelie wou onderhou, en dit sou tot algehele geloofsverval lei: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). Dit was ‘n harde maar baie nodige waarskuwing.

Hy het die Efesiërs daaraan herinner dat daar volgehoue geestelike groei moet wees na ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus, sodat hulle nie meer kinders sou wees wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering nie (Ef. 4:13-14). Paulus het egter gevrees dat die Efesiërs nie aan sy oproep gehoor sou gee nie, en gevolglik die vreemde leringe van valse profete ten prooi sou val. Hy het die ouderlinge tydens sy besoek aan Éfese ernstig gewaarsku: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julleself sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:28-30). Die Efesiërs se verval na dooie werke en vormgodsdiens was só erg dat die Here Jesus deur middel van Johannes van Patmos af ‘n brief van waarskuwing aan hulle gerig het waarin Hy gesê het: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Dit beteken dat die Here sy Gees weens hulle afvalligheid van hulle sou onttrek sodat geestelike duisternis weer sou intree. Dit het inderdaad gebeur, en hierdie gemeente het later heeltemal doodgeloop.

Paulus het ook gevrees dat daar nie by al die Hebreeuse gelowiges ‘n gesindheid van volharding en ‘n toewyding tot geestelike groei sou wees nie. Hy het aan hulle geskryf: “Ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Sommige van hulle het nie aan die geloof vasgehou nie, en onder hulle was daar diegene wat totaal uit die genade verval het, daarom die waarskuwing: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag solank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13). Om só ‘n geestelike ramp te voorkom, naamlik dat ‘n “broeder” weer ‘n bose en ongelowige hart kry, moet daar volgehoue geestelike groei en volharding op die pad van die Here wees. Paulus het nie dié groei by hulle opgemerk nie. Hy skryf aan hulle: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie” (Heb. 5:12). Hulle het geestelik gestagneer.

Paulus het ook vir Timótheus teen die gevaar van geloofsverval gewaarsku. Hy het hom vermaan om die goeie stryd van die geloof te stry en aan die geloof en ‘n goeie gewete vas te hou. “Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely,” het Paulus gesê (1 Tim. 1:18-19). Daar was ook van hierdie geestelike skipbreukelinge onder Paulus se eie vriende. “Demas het my verlaat omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, en het na Thessalonika vertrek” (2 Tim. 4:10). Demas het na sy ou weë teruggekeer en weer ‘n dienskneg van die verdorwe wêreld geword wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19).

Geen wonder nie dat Paulus ‘n diepe besorgdheid oor die jong gemeentes gehad het, en wou seker maak dat hulle aangaan met die Here en volhard op die nuwe en lewende weg. Daar was oorvloedige getuienis van geestelike verval in ander gemeentes, en hy wou voorkom dat dit ook in Thessalonika gebeur. In dié geval sou sy arbeid onder hulle tevergeefs gewees het. Dit is die rede waarom Paulus so baie aandag aan die versorging van nuwe bekeerlinge gegee het. Hy wou hulle stewig in die Christelike geloof grondves. Opvolgwerk en geestelike begeleiding is vandag net so noodsaaklik as wat dit toe was.

Paulus was vol blydskap toe Timótheus met goeie nuus van Thessalonika af teruggekeer het. Hy sê: “Maar noudat Timótheus net van julle af by ons aangekom het en ons die goeie tyding van julle geloof en liefde gebring het... is ons in al ons verdrukking en nood vertroos oor julle deur julle geloof. Want nou leef ons, as julle vasstaan in die Here” (3:6-8).

Staan jy vas in die Here? Paulus het vir die Galásiërs gesê: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus Jesus ons vrygemaak het” (Gal. 5:1).

Die lae geestelike standaarde in die moderne Christendom is groot rede tot kommer. Die Here Jesus het oor die tyd voor sy wederkoms gesê: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Paulus het ook van die groot afval van die laaste gepraat en bygevoeg: “Weet dit dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5). Ware Christene moet hulleself van vormgodsdienstige groepe onttrek omdat hulle die onmoontlike probeer doen om twee here te dien. Hulle verloën effektief vir Christus omdat hulle totaal wêreldgesind is en nie regtig die Here liefhet nie. Dit is die gees van ons tyd.

Selfs die Heilige Gees waarsku ons persoonlik teen die misleiding en geloofsverval van die laaste dae: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Petrus wys daarop dat groot geestelike duisternis oor sulke afvalliges kan toesak: “Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste” (2 Pet. 2:20). Paulus sê: “Die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie” (Heb. 10:38).

Is daar nog opregte geestelike leiers wat besorg is oor die grootskaalse geestelike verval in die eindtydse gemeentes? Doen hulle moeite om die gelowiges elke dag te waarsku solank as wat daar nog tyd is, sodat hulle nie deur die verleiding van die sonde verhard word nie? Is hulle nog bereid om sondes by die naam te noem, soos bv. geldgierigheid, gewelddadigheid, dronkenskap, homoseksualiteit en buite-egtelike verhoudings? Is daar iemand wat ernstig teen die geestelike dwalings van ons tyd waarsku, wanneer Satan soos ‘n engel van die lig in Christelike kerke insluip om sy valse leerstellings deur misleide persone daar te versprei?

Is Christen-ouers oor hulle kinders bekommerd en bid hulle gereeld vir die afvalliges onder hulle? Ook dié wat nog op die regte pad is, moet ondersteun word omdat die versoeker hulle nie sal oorslaan nie. Die meeste mense het egter net ‘n gedaante van godsaligheid en volstaan daarby. Hulle het net die uiterlike skyn van Christenskap omdat hulle aan een of ander kerk behoort, maar hulle ken nie die wederbarende krag van die Heilige Gees nie. Hulle het Hom reeds verloën en gaan met hulle selfregverdiging voort. Hulle oë sal oopgaan wanneer dit dalk té laat sal wees om hulle gebroke verhouding met die Here reg te stel. Staan nóú van jou dwaalweë af op en soek die Here terwyl Hy nog te vinde is.

As Paulus oor die gemeente in Thessalonika bekommerd was, het ons alle rede om nog meer oor mede-gelowiges in ons samelewing bekommerd te wees. Ons moenie net oor ekonomiese, maatskaplike en politieke probleme bid nie, maar oor mense se geestelike nood en die hardheid van hulle bose harte. Net die genade van die Here kan aan verlore sondaars én teruggevalle Christene ‘n geestelike oplossing vir hulle probleme bied – by die kruis van Jesus Christus!

Paulus se gebed vir die Thessalonicense raak die kern van die probleem aan wat alle jong gelowiges het, naamlik ‘n behoefte aan heiligheid en ‘n onberispelike lewenswandel. Só ‘n lewe is alleen moontlik as die Heilige Gees volle beheer daaroor het. Hy bid hulle die volgende toe: “Mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is, sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges” 3:12-13).

Ons moet as Christene onthou dat ons aan die Here behoort omdat Hy ons met sy eie bloed gekoop het. Paulus sê: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:20). Ons is lede van die bruidsgemeente van Jesus Christus en moet geestelik voorberei word om onberispelik in heiligheid te wees wanneer ons voor Hom sal verskyn.

Paulus sê vir die Thessalonicense dat hulle heilig moet wees op die dag van die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges. In die volgende hoofstuk van hierdie brief verduidelik hy aan hulle dat die Here Jesus al die ontslape heiliges saam met Hom sal bring wanneer Hy uit die hemel neerdaal om ons te kom haal. Hierdie ontmoeting dui dus op die wegraping wanneer die ontslape heiliges met opstandingsliggame beklee sal word en ons wat nog in die lewe is, in ‘n oomblik ons verheerlikte liggame sal ontvang en dan saam met al die ander heiliges die Here tegemoet sal gaan in die lug.

Ons moenie die opdrag ligtelik opneem dat ons vir hierdie ontmoeting onberispelik in heiligheid moet wees nie. Hierin is die groot geheim vir ‘n oorwinnende Christelike lewe opgesluit. Die groot gevaar vir geestelike stagnasie en agteruitgang is onder dié gelowiges wat vleeslik is en nog nie die ondervinding van volkome heiligmaking deelagtig geword het nie. Hulle is klein kinders in Christus met baie swak onderskeidingsvermoë, daarom val hulle makliker die verleiding van Satan en die begeerlikhede van die vlees ten prooi. Die oplossing hiervoor is dat die ou, sondige natuur afgelê en gekruisig moet word sodat die Heilige Gees ons volkome met die nuwe natuur van Christus kan beklee.

Paulus sê vir die gemeente in Éfese “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24). Hier is duidelik van ‘n tweede genadewerk sprake: ons moet van die ou natuur ontledig word sodat ons met die nuwe natuur beklee kan word. Paulus onderskei hierdie twee genadewerke van die inisiële reiniging van ons sondes tydens bekering en volkome heiligmaking tydens die vervulling met die Heilige Gees só:

“Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Ná ons wedergeboorte waarin ons die nuwe lewe ontvang, moet daar ‘n tyd kom wanneer ons die volle beheer van ons hele lewe aan die Heilige Gees oorgee. Slegs dan sal ons sonder vlek of rimpel in sy heilige teenwoordigheid kan verskyn.

Is jy onberispelik in heiligheid? Indien nie, dan sal die Heilige Gees jou van dié dinge in jou lewe oortuig wat nog verkeerd is en waardeur Hy bedroef en weerstaan word. Paulus het die Efesiërs gewaarsku dat hulle nie die Heilige Gees moet bedroef nie (Ef. 4:30), maar deur Hom vervul moet word (Ef. 5:18). Hulle moet alle ondeug en boosheid aflê, en sterk na die onvervalste melk van die Woord verlang sodat hulle daardeur kan opgroei. Die Heilige Gees wil ons in ‘n dieper lewe van volkome gehoorsaamheid aan die Here Jesus inlei, maar dan moet ons alles bely en aflê wat struikelblokke in ons geestelike lewe is. Dit was ook Paulus se begeerte om te voltooi wat nog in die Thessalonicense se geloof ontbreek (3:10). Hy wou seker maak dat hulle deur die Gees wandel, want dan sal hulle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.

Waarom wil ons gered word asof deur vuur heen en as mislukte en onsuksesvolle dissipels met leë hande voor die Here verskyn? Selfs diegene wat die Here al jare lank gedien het, moet ook teen versoekings waak omdat die duiwel hulle geestelik kan beroof en verarm as hulle slagoffers van sy verleidingswerk word. Johannes sê: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang” (2 Joh. 1:8). Ons moet waak teen die Berower van ons siele en onwankelbaar vas staan in die Here!

Dit was die rede vir Paulus se groot blydskap oor die geestelike stand van die gemeente in Thessalonika: “Want nou leef ons, as julle vasstaan in die Here” (3:8). Wanneer die gemeentelede vervul word tot al die volheid van God, sal hulle dieper insig in die Woord van God hê, ‘n duideliker onderskeidingsvermoë tussen reg en verkeerd, en gevolglik ook ‘n groter sensitiwiteit vir sonde. Hulle sal ‘n onafgebroke bewussyn van die Here Jesus se teenwoordigheid in hulle lewens hê, en ‘n diep verlange om met Hom verenig te word by sy koms. Hulle sal weet dat niks wat die wêreld aan hulle bied, kan opweeg teen die ewige heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

Laat ons altyd dankbaar wees dat die Here Jesus die onnaspeurlike rykdomme van sy liefde en reddende genade aan ons geopenbaar het. Mag Hy ons begenadig om onberispelik te wandel.

 

1 Thess. 4: Heiligmaking en die Wederkoms

In hoofstuk 4 gaan Paulus voort om die konsep van heiligmaking te verduidelik. Hy doen dit op ‘n baie praktiese wyse deur ‘n lewe van heiligmaking teenoor die roekelose en onsedelike praktyke van die Thessalonicense te stel. Die woord “heiligmaking” (Eng. “sanctification”) het al gevestig geraak as ‘n aanvaarbare term met ‘n besondere betekenis. Dit is jammer dat die Nuwe Vertaling van die Afrikaanse Bybel dié woord weglaat (soos ook in Rom. 6:19 en 22, asook 2 Kor. 7:1) en dit vervang met ‘n afgewaterde begrip soos “heilig lewe.” Heiligmaking gaan tog nie net oor uiterlike gedrag wat as ‘n heilige lewe beskryf kan word nie, maar ‘n oorgawe aan Christus en ‘n hartsverandering wat daarmee gepaard gaan.

In vers 1 en 2 spreek Paulus die gemeente sterk aan om die sake in gedagte te hou wat hy voorheen reeds met hulle bespreek het. Dikwels wil mense net nuwe gedagtes en interessante feite in die prediking hoor – dinge wat hulle nog nie voorheen gehoor het nie. Wat meesal van groter belang is, is dat mense die bekende feite van die evangelie weer moet hoor, en dat hulle in die Naam van Jesus Christus ernstig aangespreek sal word om dit in hulle lewens toe te pas. In baie gevalle getuig gemeentelede se lewens nie van die verlangde geestelike standaarde nie, omdat hulle nog nie al die Here se opdragte ter harte geneem en uitgevoer het nie.

Heiligmaking (4:3-8)

In vers 3 tot 8 maak Paulus die volgende  belangrike uitsprake oor heiligheid as ‘n morele én geestelike eienskap wat van elke Christen verwag word:

“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking” (v. 3). Paulus het hier ‘n saak gestel wat hy meer volledig in hoofstuk 5 vers 23-24 bespreek, naamlik dat die hele persoonlikheid van die gelowige die heiligmakende krag van God moet ervaar. Omdat die Thessalonicense in ‘n immorele samelewing gewoon het waarin seksuele losbandigheid aan die orde van die dag was, het Paulus dit nodig gevind om ‘n drastiese reiniging van lewe in die verhouding tussen die geslagte te beklemtoon. Dit is ongetwyfeld God se wil dat alle Christene “ingetoë, regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld lewe” (Titus 2:12). ‘n Afgesonderde en heilige lewe is God se norm vir alle gelowiges, of hulle in die eerste eeu of in die 21ste eeu leef. God is absoluut heilig, en Hy is met niks minder tevrede as ‘n morele gelykvormigheid in ons, wat met sy heilige natuur ooreenstem nie.

In vers 4 sê hy: “Elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer” (v. 4). Op elke verhoudingsvlak van ons lewe moet die Gees van Jesus Christus sigbaar geopenbaar word. Dit geld veral die huwelik, wat ‘n toonbeeld moet wees van die heilige verhouding tussen die hemelse Bruidegom en sy aardse bruid. Die man is die hoof van die vrou, soos wat Christus die hoof van die gemeente is. Die verhouding tussen hulle moet ten alle tye deur liefde, getrouheid en onderlinge respekbetoning gekenmerk word. Die opdrag is: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad het” (Ef. 5:25).

“Nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene nie” (v. 5). In die heidendom word daar groot klem op sensualiteit geplaas. Gebruike en gewoontes wat totaal vreemd aan die wil van God en afstootlik vir die Christen is, word algemeen in sulke samelewings beoefen. Immoraliteit is selfs ‘n deel van die heidense godsdienste. Dit is die uitdruklike wil van God, sê Paulus, dat mense uit die stinkende moeras van morele verdorwenheid sal kom en van alle sondige verhoudings en ontaarde gewoontes verlos sal word. God vereis die heiligmaking van mans én vroue, die reiniging van alle menslike begeertes, en die herstel van albei tot die heilige status wat Hy oorspronklik daarvoor bepaal het.

“Niemand moet sy broeder in hierdie saak bedrieg en benadeel nie” (v. 6). Ander menseverhoudings word ook aan goddelike beginsels onderwerp. Paulus sê hierdeur: “Broeders, beoefen julle sosiale en besigheidsverhoudings as heilig, soos dit manne betaam wat aan God toegewy is. Die heidene word deur begeerlikheid en inhaligheid gemotiveer. Julle moet hulle deur dade van eerlikheid en geregtigheid tot beskaming bring.” Die breë terrein van verhoudings met ons medemens is die gebied waarin die geheiligde gelowige die werklikheid van sy geloof, sy integriteit en sy karakter moet uitleef en demonstreer. Onwaardige optrede teenoor jou buurman is in God se oë net so verkeerd as oneervolle gedrag in jou gesin.

“Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking” (v. 7). God het ons, sy kinders, tot totale afsondering van alle vuilheid en onreinheid van enige tydperk in die geskiedenis geroep. Aan die positiewe kant het Hy ons tot heiligmaking geroep. Die kenmerkende eienskap van die Christen se lewe is heiligmaking. Die tydsvorm van die werkwoord “geroep” dui ‘n definitiewe en voltooide handeling aan. Daar is ‘n besliste en ‘n baie duidelike kontras tussen die vleeslike, sensuele lewenswyse van die wêreldling en die geheiligde, gereinigde lewenspatroon wat God van sy kinders verwag.

“Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het (v. 8). Diegene wat die leer van heiligmaking verwerp, verwerp nie ‘n menslike gebruik nie, maar ‘n Bybelse leerstelling. ‘n Heilige God het gesê dat ons heilig moet wees soos wat Hy heilig is (1 Pet. 1:15-16). Ons moet benewens die Here se genadewerk om ons harte te reinig, ook ons eie verantwoordelikheid in hierdie verband besef en tot uitvoering bring. Paulus sê: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Ons moet gewilliglik afstand doen van alles wat ons verontreinig, en ook daadwerklik onsself in God se diens stel. Paulus sê: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar” (1 Kor. 9:27), omdat heiligmaking ook beteken dat ons afgesonder moet wees vir die diens van die Here.

Broederliefde (4:9-12)

In vers 9 tot 12 word die onderwerp van broederliefde bespreek. Paulus sê: “Oor die broederliefde het julle nie nodig dat ons aan julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê.” ‘n Groot deel van ons onderrig kry ons by ander Christene, maar die beginsel van broederliefde word deur die Here self by ons ingeskerp. ‘n Christen het die innerlike wete dat hy of sy in ‘n spesiale verhouding teenoor ander Christene staan, ongeag wie hulle is. Daar is ‘n spesiale band tussen hulle wat nie tussen Christene en wêreldlinge bestaan nie. Ons is lede van die liggaam van Christus, en daarom broers en susters in die Here.

Die Here Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Paulus het nie nodig gehad om aan die Thessalonicense te sê dat hulle mekaar moet liefhê nie, maar dat hulle in die liefde moes toeneem. Johannes sê: “As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword” (1 Joh. 4:12). As ware broederliefde by jou ontbreek, moet jy weet dat jy nog nie volmaak geword het in die liefde nie. Dan is daar beslis ruimte vir verbetering. Paulus sê dat die liefde van God deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort word (Rom. 5:5). Die ondervinding van heiligmaking bring dus ook mee dat ons met die liefde van die Here Jesus vervul word. Dit is in hierdie verband dat Paulus die Thessalonicense vermaan om nog oorvloediger in hulle liefde teenoor mekaar te word (4:10).

In vers 11-12 sê Paulus: “Stel julle eer daarin om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het, sodat julle welvoeglik kan wandel teenoor die wat buite is, en aan niks behoefte mag hê nie.” Christene kan baie uit hierdie twee verse leer. Baie van hulle sien dit as ‘n uitdaging om hulle werk te bedank en voltyds in die geloof vir die Here te gaan werk, want “die Here sal vir hulle sorg.” In die proses gebeur dit dikwels dat hulle ‘n las word vir ander Christene, op wie daar ‘n morele verpligting geplaas word om vir hulle te sorg. Intussen kon hulle miskien deeltyds of by die werk net so goed in die diens van die Here gestaan het. Ook aan hulle sê Paulus dat elkeen met sy eie hande moet werk en vir homself moet sorg sodat hy aan niks behoefte sal hê nie. Paulus het self tente gemaak om sy eie uitgawes op sy sendingreise te betaal.

Daar is natuurlik gevalle waarin evangeliste en ander geestelike werkers deur ‘n organisasie of gemeente betaal word om ‘n sekere bediening voltyds te beoefen, waarvoor hulle dan ‘n vaste maandelikse toelaag of salaris kry. Hiermee is niks verkeerd nie, mits dit inderdaad die voltydse aandag van die betrokke persoon vereis en die donateurs met die werk tevrede is.

Wat die behartiging van ons eie sake betref, moet Christene ook leer om dit op ‘n verantwoordelike manier te doen. Rekenings moet stiptelik betaal word en mense moet nie bo hulle vermoë leef nie. Die wêreld kyk na die Christene, en die oomblik wanneer ons onsself aan wangedrag, nalatigheid of korrupsie skuldig maak, plaas dit ook ‘n wolk van verdenking oor baie ander Christene se lewens.

Die wegraping (4:13-18)

1 Thessalonicense 4:13-18 is die klassieke Bybelse perikoop oor die wegraping van die gelowiges. Paulus het dit geskryf om die vrae van sekere mense te beantwoord oor wat van die gelowiges word wat reeds gesterf het. Dié gedeelte lui só:

“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal voor wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”

Paulus verwys hier na die ontslapenes, of die wat slaap. Dood word dikwels in die Bybel met slaap vergelyk (Mark. 5:39; Joh. 11:11) om daardeur te sê dat die dood vir ons wat gered is, iets gans anders as vir die heidene is. Vir ons is dit eerder iets soos slaap, met ‘n blye verwagting op dit wat daarna volg. Ons moet egter versigtig wees om nie hier aan ‘n sieleslaap te dink nie, want die Bybel maak dit duidelik dat diegene wat sterf, onmiddellik en bewustelik by die Here teenwoordig is (2 Kor. 5:8; Fil. 1:23; 1 Thess. 5:10).

Dit is slegs die gestorwe liggaam wat in die aarde slaap, om daarvandaan weer by die koms van die Here opgewek en verheerlik te word (1 Kor. 15:35-57; 2 Kor. 5:1-9). Paulus sê: “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor. 15:51-53).

Die rede waarom ons as Christene nie moet treur soos die ongelowiges nie, is omdat ons ‘n belofte en waarborg het op ‘n heerlike toekoms saam met Christus. Net so seker as wat Jesus gesterf het en deur die Vader opgewek is, sal dié wat in Christus gesterf het, opgewek word om by sy koms met Hom verenig te word. Daar is oorvloedige bewyse vir die dood en opstanding van Jesus. As ons dit glo, moet ons net so seker weet dat ons ook opgewek sal word en vir altyd saam met Christus sal wees. Hy het immers as eersteling uit die dood opgestaan (1 Kor. 15:23) om daardeur te waarborg dat ons Hom sal volg.

Paulus het geweet dat hierdie groot waarhede is en dat sommige Christene dalk sou wonder of dit alles waar kan wees. Om dié rede sê hy in vers 15 dat dit wat hy aan hulle oordra “die woord van die Here” is. Hierdie vers kan saam met 2 Timótheus 3:16 en Openbaring 22:18-19 as bevestiging vir die verbale inspirasie van die Heilige Skrif aangehaal word. Daardeur sê ons dat die hele Bybel woordeliks deur die Heilige Gees ingegee is en dat ons geen deel daarvan mag verander nie, ook nie as ons dit vertaal nie.

Dié wat in Christus ontslaap het, sal opstaan en net daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met die ontslape Christene verander word en die Here in die lug ontmoet. Volgens vers 16 sal die Here van die hemel af neerdaal. Die Nuwe Testament is daarvan vol dat Christus nou in die hemel is, aan die regterhand van God, waar Hy as Hoëpriester vir ons intree (Hand. 7:55-56; Rom. 8:34; Heb. 8:1). Die tyd wanneer Hy as Koning sal regeer, het nog nie aangebreek nie. Dit is die tyd wanneer al sy vyande ‘n voetbank vir sy voete sal wees (Ps. 2:5-8; 110:2). Op die oomblik is die duiwel die owerste en god van hierdie gevalle, sondige wêreld (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4; Ef. 6:12; 1 Joh. 5:19). Dit is die rede waarom ons tans, volgens Hebreërs 2:8, nog nie in die bedeling leef waarin alle dinge aan Christus onderwerp is nie.

Die dag wanneer die Here Jesus uit die hemel neerdaal, kom Hy sy kinders haal en sal die bedeling van die kerk verby wees. Daarna sal sy oordele tydens die verdrukking oor ‘n goddelose wêreld uitgestort word, en dan eers sal Hy van die troon van Dawid af oor die hele wêreld regeer (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17; Op. 11:15). Die tyd van Christus se regering op aarde kan nie met die huidige bedeling gelykgestel word nie, omdat Hy nog in die hemel is.

Nadat al die Christene verheerlikte liggame het, sal hulle van die aarde af weggevoer word, die Here tegemoet in die lug. Die Griekse woord wat vir “wegvoer” gebruik word, is “harpadzo.” Dit beteken “om weggeraap te word,” m.a.w. “om vinnig weggeruk te word.” Paulus gebruik dieselfde woord in 2 Kor. 12:2 waar hy sê: “Ek weet van man in Christus, veertien jaar gelede... dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel.” Die bruidsgemeente van Christus gaan dus weggevoer of vinnig weggeruk word hemel toe.

Wat is die sin daarvan dat die Here ons in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, van die aarde af gaan wegruk? Gaan die ware gelowiges só dramaties van die aarde af weggeneem word om, soos sommige beweer, dadelik weer terug te kom en hier op aarde saam met die ongelowiges geoordeel te word? Vir seker nie, want as die Here ons kom haal, dan doen Hy dit om ons na Hom toe te neem sodat ons kan wees waar Hy is. In Johannes 14:2-3 sê Hy dat Hy vir ons plek in die hemel gaan voorberei het, en wanneer dit klaar is, kom Hy ons haal om by Hom te wees.

Enersyds is die wegraping ‘n vinnige reis hemel toe om voor die regterstoel van Christus te verskyn, waar Christene se werke beoordeel en genadeloon aan hulle toegeken sal word (2 Kor. 5:10; 1 Kor. 3:8-15). Direk daarna sal hulle met die hemelse Bruidegom verenig word, en dan saam met Hom, tydens die sewe jaar van verdrukking, die wêreld in geregtigheid oordeel.

Andersyds is die wegraping ‘n ontvlugting van die aarde af, waar die oordele van God oor die goddeloses uitgestort gaan word. Die Here Jesus het vir sy dissipels gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Mense wat nie in die wegraping glo nie, ontneem hulleself die enigste manier om van die planeet aarde af na die hemel toe geneem te word, waar al die heerlikheid van die Here aan hulle geopenbaar sal word. Verder verbeur hulle ook uit eie keuse die godgegewe seën om die toekomstige toorn te ontvlug en in ‘n plek van veiligheid gestel te word wanneer die Here se oordele die hele wêreld in ‘n verdrukking sal dompel soos wat daar van die begin van die aarde af nog nooit gewees het en ook nooit weer daarna sal wees nie (Matt. 24:21).

Die vertalers van die Nuwe Afrikaanse Bybel het in Lukas 21:36 ‘n doelbewuste poging aangewend om die wegraping uit die Bybel uit te vertaal. Hulle het die Griekse woord “ekfeugo,” wat “ontvlug” beteken (Eng. “escape”) as “behoue deurgaan” vertaal. Volgens hulle sal die Here die ware gelowiges saam met die sondaars op aarde oordeel, maar sorg dat ons behoue deur hierdie vreeslike tyd sal gaan. Dit is beslis nie wat die Bybel sê nie! Wat sou van Noag geword het as hy geredeneer het: “God is ‘n liefdevolle God wat nie regtig die bose mensdom in ‘n vloed sal verdelg nie. Ek gaan nie vir my ‘n ark bou om die oordele te probeer ontvlug nie”? Of wat sou van Lot geword het as hy gesê het: “Ek wil nie uit Sodom weggaan om die rampgebied van goddelike oordele te ontvlug nie; die Here moet my maar hier in Sodom bewaar”? Mense wat die belofte van die wegraping verwerp, openbaar dieselfde gebrek aan insig en geloof in die Woord.

Nee, vriende, die Here gaan sy kinders wegruk om Hom in die lug tegemoet te gaan, want ons is nie vir sy toorn in die verdrukking bestem nie (1 Thess. 5:9). Paulus bevestig hierdie groot waarheid telkens in sy brief.

Wanneer Paulus se beskrywing van die wegraping met die beskrywings van die wederkoms in Openbaring 19:19-21 en Sagaria 14 vergelyk word, dan is die verskille só groot dat ons nie anders kan as om die wegraping duidelik van die sigbare, openbare verskyning van Jesus Christus op die Olyfberg te onderskei nie – dit is twee totaal verskillende gebeurtenisse. Eers kom haal die Here sy kinders, dan volg die bewind van die Antichris vir sewe jaar, daarna vind die wederkoms plaas wanneer die Antichris en sy volgelinge geoordeel en die duisendjarige vrederyk van Christus op aarde ingestel sal word.

Ons moet deur die belofte van die wegraping bemoedig word. Dit is nie ‘n vae begrip van iets wat dalk eendag gaan plaasvind nie – dit is ‘n belofte waarmee ons mekaar voortdurend moet bemoedig. Dit sal die dag van ons heerlike ontmoeting met die Here Jesus wees, en van ons beloning ná die veeleisende stryd van die geloof in ‘n donker wêreld. Dit sal ook die dag van ons uitredding uit die uur van beproewing wees wat oor die hele wêreld gaan kom. Om dié redes moet die wegraping vir elke Christen ‘n “salige hoop” wees om aan vas te hou (Titus 2:13).

 

1 Thess. 5: Die Dag van God se Toorngloed

Die laaste hoofstuk van hierdie brief sluit ‘n bespreking van die dag van die Here in, asook praktiese voorskrifte oor optredes in gemeenteverband én in mense se persoonlike lewens, asook ‘n sterk oproep tot volkome heiligmaking.

Die dag van die Here (5:1-11)

Die onderwerp wat in die eerste deel van hoofstuk 5 behandel word, is die dag van die Here. Dit is ‘n logiese voortvloeisel uit die belofte van die wegraping wat in hoofstuk 4:13-18 bespreek is. Daar het dit oor die wegvoering van die gelowiges gegaan, oftewel die beëindiging van die kerkbedeling. Met dit in gedagte, gaan Paulus nou voort om sy lesers in te lig oor die vreeslike dag van die Here wat ná die wegraping op aarde gaan afspeel. Hy sê vir hulle: “Julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (5:2-3).

Paulus tref in hierdie gedeelte ‘n duidelike onderskeid tussen “ons” en “hulle.” Enersyds praat hy van ons as Christene wat in die lig wandel en die sekerheid het dat ons nie vir die toorn van God bestem is nie. Ons sal op ‘n gegewe oomblik weggevoer word. Andersyds praat hy van die “hulle” wat op die ongeredde wêreldlinge betrekking het. Hulle sal ‘n valse vrede onder die leiding van die valse messias nastreef, maar dan sal ‘n skielike verderf in die komende dag van die Here hulle oorval, en hulle sal dit sekerlik nie ontvlug nie. Net die Christene sal hierdie tyd van oordele en rampe deur middel van die wegraping ontvlug.

Daar is in die Ou Testament verskeie beskrywings van die oordele van die eindtydse dag van die Here, en Paulus het in sy preke in Thessalonika waarskynlik hierna verwys. Voorbeelde van sulke beskrywings is die volgende: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. Want die sterre van die hemel en sy Orions sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie. En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir. Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die Here van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed” (Jes. 13:9-13). In hoofstuk 24:1 en 6 sê Jesaja: “Kyk, die Here maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners... Daarom verteer die vloek die aarde... en bly daar min mense oor.”

Joël sê in hoofstuk 1:15 dat die dag van die Here kom soos ‘n verwoesting van die Almagtige. In hoofstuk 2:11 sê hy: “Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?” In hoofstuk 3:14 sê hy dat daar in dié dag menigtes van mense in die dal van beslissing sal wees waar die Here hulle sal oordeel. Die geweldige oorloë wat in die groot verdrukking in en om Jerusalem sal uitbreek, word in Sagaria 14 spesifiek aan die dag van die Here verbind. In hierdie hoofstuk word die wederkoms van Jesus ook beskryf, wanneer Hy sy voete op die Olyfberg sal sit. Hy sal deur ‘n hemelse leërskare gevolg word en met sy vyande, wat ook die oorblyfsel van Israel sal probeer verdelg, in die gerig tree en hulle oordeel.

Maleági sê in hoofstuk 3:2: “Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn?” In hoofstuk 4:1 sê hy: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare.”

Dit was ‘n saak van groot erns om van die Here se komende oordele kennis te dra, en seker te maak dat hulle deur geloof in Jesus Christus ontvlug word. Volgens 1 Thessalonicense 5:2 sal die dag van die Here aanbreek soos ‘n dief in die nag. Dit sal baie skielik op die aarde afkom in ‘n tyd wat gekenmerk sal word deur die verkondiging van vrede en veiligheid vir almal. Die misleide mensdom sal op die rand van ‘n humanistiese nuwe wêreldorde van internasionale vrede en eenheid wees, wanneer groot onheil hulle lewens skielik en ingrypend sal verander.

Hierdie feite stel dit bo alle twyfel dat die begin van die dag van die Here met die wegvoering van die gelowiges sal saamval. Dit is die verrassingselement soos ‘n dief in die nag wanneer die Here skielik sy bruidsgemeente sal wegvoer. Die wêreld sal dan, soos in 2 Thessalonicense 2 beskryf, aan die mens van sonde uitgelewer word, wat as hulle gemeenskaplike messias verderflike hervormings sal instel en ‘n sondekultuur soos dié in die tyd van Noag en Lot sal bevorder. Dit sal die oordele van God oor die misleide mensdom bring.

In vers 6 en 7 word die Christene aangemoedig om ooreenkomstig die verwagting en kennis wat aan hulle oorgedra is, op te tree. Die leer oor die wederkoms is nie net teoretiese kennis nie en word ook nie bloot ter wille van die interessantheid daarvan in die Bybel genoem nie. Dit moet in ons lewens in dade van toewyding, ‘n blye vooruitsig en ‘n sterk getuienis oorgaan. Paulus sê dat ons in geen enkele genadegawe moet agterstaan terwyl ons op die openbaring van onse Here Jesus Christus wag nie (1 Kor. 1:7). Petrus sluit ook by Paulus se oproep tot heiligmaking met die oog op die wederkoms aan wanneer hy sê: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag... Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Pet. 3:11-12,14).

In vers 8 gebruik Paulus weer, soos dikwels in sy briewe, die beeld van die soldaat wat enige oomblik vir diens gereed moet wees. Die Meester kan onverwags kom, en ons moet in elk geval altyd onmiddellik vir diens in sy koninkryk beskikbaar wees. Mense wat op daardie oomblik slaap, dronk is, of wie se geestelike toerusting nie gereed is nie, het ‘n groot probleem.

Die borswapen beskerm al die inwendige organe, net soos wat geloof in Jesus Christus al die bose aanslae afweer en ons lewendig in die gees en in die hart hou. Saam met geloof gaan liefde, wat die belangrikste uiterlike bewys is van ‘n mens wat sy self gekruisig het en tot eer van die Here en die voordeel van andere leef. Die helm word vergelyk met ons hoop op die salige ontmoeting met die Here Jesus by die wegraping, asook ons gepaardgaande verlossing uit die toorn wat aan die kom is. Soos wat die helm ‘n mens se kop in die oorlog beskerm, so beskerm ons hoop en verwagting ons van verleidelike gedagtes uit die wêreld wat ons verstand wil binnedring om ons perspektief te laat verloor. ‘n Lewende hoop is inderdaad die beste middel om ‘n mens se aardgebondenheid en wêreldgelykvormigheid mee te oorwin.

Vers 9 bevestig die feit dat ons saligheid in Christus ‘n vaste waarborg is dat ons nie vir die toorn van die sondaars bestem is nie. Paulus sê: “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus.” Ons moet die vaste wete hê dat daar geen veroordeling is vir dié wat in Christus Jesus is nie (Rom. 8:1). As ons in Jesus Christus glo en aan Hom behoort, kom ons nie in oordele van enige aard nie (Joh. 5:24). Hy het reeds die straf vir ons sondes betaal. Jesaja sê: “Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom” (Jes. 53:5). Ons kan wél in verdrukking kom en selfs vervolg word ter wille van ons geloof omdat ons met ‘n bose wêreld in konflik is, maar ons is nooit die voorwerpe van God se toorn nie. Christene sal beslis die komende verdrukking ontvlug wanneer die Here sy toorn oor die sondaars gaan uitstort.

In vers 11 sê Paulus: “Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.” Paulus se eie bemoediging en onderrig in die brief was nie genoeg nie, want hierdie boodskap moet gereeld herhaal en beklemtoon word. Dit moet deel van hulle prediking én persoonlike gesprekke wees, sodat die wederkomsboodskap, die belofte van ons ontvlugting, en die oproep tot persoonlike heiligheid en diensbaarheid, gedurigdeur andere kan aanspoor en bemoedig. Neem hierdie onderwerp nog sy regmatige plek in ons gedagtes, gesprekke en prediking in? Indien nie, sal die hoop op Christus se spoedige koms verflou en ook ‘n demper op mense se geestelike lewe en die verstaan van Bybelse profesieë plaas.

Praktiese voorskrifte (5:12-22)

Van vers 12 af bring Paulus sy lesers terug van lering oor ons toekomstige hoop na praktiese, alledaagse voorskrifte vir die goeie funksionering van die gemeente en die suksesvolle uitleef van elke lidmaat se verantwoordelikheid teenoor die Here én teenoor ander mense. Die eerste opdrag aan die broeders is dat hulle diegene wat onder hulle arbei, moet erken, die hoogste agting aan hulle bewys en onderlinge vrede handhaaf. Die voorgangers in hierdie vroeë gemeentes was ouderlinge wat vir hulle eie onderhoud ‘n voltydse werk gedoen het, en dan soveel as moontlik tyd ingeruim het om die woord te verkondig en die gemeente pastoraal te bedien. Ter wille van die goeie orde in die gemeente moet hierdie voorgangers se arbeid waardeer, hulle voorskrifte nagevolg en hulle gesag erken word. Elke ander persoon in die gemeente moet ook volgens sy of haar besondere behoeftes beraad, vermaan, bemoedig en ondersteun word. Daar moet dus omstandighede vir gesonde geestelike groei geskep word. Bitterheid, verdeeldheid en onvergewensgesindheid moet uit die gemeente geweer word.

Paulus gee ook die volgende sewe kort riglyne, of boustene, vir elke Christen se persoonlike lewe sodat die regte ingesteldheid altyd gehandhaaf kan word:

“Wees altyddeur bly” (5:16). Ons gevoelens moet deur ons geloof in Jesus Christus en die beloftes in die Bybel bepaal word, en nie deur ons uiterlike omstandighede nie. Paulus het selfs uit die tronk geskryf: “Verbly julle altyd in die Here” (Fil. 4:4). Ons sekere toekoms in die hemel, die blye vooruitsig op Christus se wederkoms, en ook sy belofte dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie, is voldoende redes om ons altyd te verbly. Dit sal ons help om selfs onder die moeilikste omstandighede blymoedige Christene te wees. Nehemia het gesê: “Die blydskap in die Here – dit is julle beskutting” (Neh. 8:11). Dit beskut ons teen donker gedagtes en moedeloosheid as gevolg van allerlei teleurstellings en aanvegtinge deur die sielevyand.

“Bid sonder ophou” (5:17). Voortdurende gebed is nie ’n gebed wat sonder onderbreking gebid word nie, maar wat gebid word wanneer daar ook al geleentheid is. Paulus het vir die Efesiërs gesê dat hulle met alle gebed en smeking by elke geleentheid moet bid in die Gees (Ef. 6:18). Ons moenie in biddeloosheid verval nie, maar die Here ken in al ons weë. Ons moet bid oor dié sake wat die Heilige Gees op ons harte lê, en ook alle sondes waarvan Hy ons oortuig, bely en laat staan. Ons sal geestelik arm word as ons nie bid nie. Jakobus sê tereg: “Julle het nie omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid om dit in julle welluste deur te bring” (Jak. 4:2-3). Ons moenie net oor materiële sake bid nie, maar oor geestelike sake.

“Wees in alles dankbaar” (5:18). Dank die Here nie net vir seëninge nie, maar ook vir die onaangename omstandighede en vra Hom om dit vir jou in ‘n geestelike bate te omskep. Vir hulle wat God liefhet, werk alles ten goede mee (Rom. 8:28). Krisisse en teleurstellings laat ons opnuut besef hoe diep ons van die Here afhanklik is, en dit louter ons ook sodat ons na dieper geestelike waardes in ons lewe sal soek. Die psalmis het gesê: “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord” (Ps. 119:67).

“Blus die Gees nie uit nie” (5:19). Die werk van die Heilige Gees word dikwels in die Bybel met vuur vergelyk. Jesaja is as profeet vir sy diens toegerus deur ‘n gloeiende kool van die altaar af, waardeur sy lippe aangeraak is (Jes. 6:6-7). Christus het gekom om ons met die Heilige Gees en met vuur te doop (Matt. 3:11). Die Heilige Gees maak ons harte brandend met liefde vir die Here Jesus én vir ‘n verloregaande wêreld. Die Heilige Gees word ook met olie vergelyk, wat in die kandelaar gegooi is sodat dit helder kon brand en lig in die tempel verskaf. Hy wil van ons ook skynende ligte in ‘n donker wêreld maak. ‘n Vuur kan egter geblus en ‘n lig uitgedoof word. So ook kan afvallige gelowiges die lig van die Heilige Gees in hulle eie lewe uitdoof. Dit is soos om ‘n gordyn toe te trek sodat die lig van die son nie meer in die vertrek skyn nie. Aanvanklik bedroef sulke gelowiges net die Heilige Gees (Ef. 4:30), maar in ‘n gevorderde stadium van verval kan hulle Hom uitblus. Dan wandel hulle in geestelike duisternis en volg net hulle eie koppe en die valse leerstellings wat hulle oor die Bybel aanvaar het. Hulle mislei ook baie ander mense om hulle op hul dwaalweë te volg. Hulle mag ‘n valse front van vroomheid voorhou, maar in werklikheid is hulle lankal nie meer spreekbuise vir die Here deur die Heilige Gees nie.

“Verag die profesieë nie” (5:20). Die Gees kan ook gedeeltelik in ‘n persoon se lewe of in ‘n gemeente uitgeblus word, deurdat sekere leerstellings nie aanvaar en verkondig word nie. Dit mag bv. wees dat Christus nog as Verlosser verkondig word, en dat selfs ook heiligmaking nagestreef word, maar dat die profesieë oor die eindtyd, insluitende ons ontvlugting uit die toekomstige toorn op aarde, nie aanvaar of verkondig word nie. Die noodwendige gevolg hiervan is uitsiglose Christene wat min begrip vir ons tydsomstandighede en die vervulling van Bybelse profesieë het. Hulle is in werklikheid aan die slaap wat hierdie sake betref, want hulle oë is daarvoor toe. Ander persone glo net sekere profesieë en verwerp die salige hoop op die wegraping. As gevolg hiervan verwag hulle die Antichris en sien dus vir hulleself ‘n donker toekoms met skraal oorlewingskanse. Moenie die profesieë verag nie!

“Beproef alle dinge; behou die goeie” (5:21). Dit beteken beslis nie dat slegte dinge beproef moet word nie, maar slegs goeie dinge. Hiervan moet net die beste gekies word. Besoek bv. verskillende gemeentes in jou dorp, insluitende huisgemeentes, en skakel dan by die beste een daarvan in waar die volle raad van God verkondig en goeie pastorale sorg verleen word.

“Onthou julle van elke vorm van kwaad” (5:22). Dit is ‘n basiese riglyn vir elke Christen dat hy of sy nie moet sondig nie. Wanneer jy sonde doen, is dit soos ‘n ramp wat jou lewe tref. So iets is tot oneer van die Here en jy benadeel in die proses ook jouself én andere. Johannes sê: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1-2). As jy wél gesondig het, bely en laat staan dit dadelik.

Volkome heiligmaking (5:23-24)

Paulus bid die gemeente ten slotte die groot seën van volkome heiligmaking toe: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (5:23-24).

Volkome heiligmaking is ‘n dieper werk van die Heilige Gees in ons lewens ná bekering. Ons hele lewe moet tot ‘n heiligdom vir die Here en sy Gees omskep word. Ons word hierdeur geskik gemaak om die Here te dien en gedurigdeur sy teenwoordigheid te ervaar. Om hierdie seën te kan verkry, moet ons onsself doelbewus en onvoorwaardelik aan die Here toewy sodat Hy ons harte volkome kan reinig van verkeerde gedagtes en motiewe. Ons moet dus leeggemaak en van die vlees, die wêreld en die sonde gereinig word sodat ons met die Gees van die Here vervul kan word. Daar is geen aspek van ons bestaan wat buite die terrein van volkome heiligmaking val nie. Ons moet gees, siel én liggaam volkome heilig gemaak word.

Die eerste terrein van volkome heiligmaking is die gees van die mens. Die drie belangrikste eienskappe van die Christen se geestelike lewe is geloof, hoop en liefde. Paulus het reeds in die eerste hoofstuk van hierdie brief aangedui dat daar ‘n toename in hierdie eienskappe moet wees. Ons moet ‘n sterk en onwankelbare geloof hê en ook werke van geloof doen waardeur die Here behaag word. Ons hoop moet ten alle tye op die Here Jesus gerig wees vir die vervulling van ons daaglikse behoeftes, vir krag om die stryd staande te bly, en ons moet ook die sterk hoop op sy wederkoms en die openbaring van sy koninkryk koester. Liefde is die grondslag van ons verhoudings met God én ons naaste. Deur die werk van die Heilige Gees moet ons volmaak word in die goddelike agape liefde – ons hele lewe moet daarin gewortel en gegrond wees.

Die tweede terrein van volkome heiligmaking is die siel van die mens. Dit sluit sy denke, wil en emosies in. Die Heilige Gees stel ons in staat om verligte oë van die verstand te hê sodat ons ‘n goeie onderskeidingsvermoë kan hê en alle dinge geestelik kan beoordeel. Hy stel geheiligde Christene ook in staat om te kan beproef wat die goeie, welgevallige en volmaakte wil van God is en ook uitvoering daaraan te gee (Rom. 12:1-2). Ons moenie ons eie wil en belange soek nie. Verder maak God se Gees dit vir ons moontlik om ‘n geesbeheerde temperament te hê waarin ons nie deur ons emosies oorheers word en die slagoffers van wisselende gevoelens is nie.

Die derde terrein van volkome heiligmaking is die liggaam van die mens. Dit sluit ons sintuie, die gesonde funksionering van ons liggaam én ons ledemate of werkvermoë in. Streng beheer moet oor sintuie beoefen word, want dit is poorte waardeur die wêreld en die sonde ons kan beïnvloed. Ons moet vir die wêreld gekruisig word. Verder moet ons ons liggaamlike gesondheid bevorder deur reg te eet, oefeninge te neem, geen skadelike gewoontes soos rook, drankmisbruik en die gebruik van dwelms te beoefen nie. Ook moet ons ledemate in die diens van God gestel word as werktuie van geregtigheid. Paulus sê: “Stel julle liggame as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens” (Rom. 12:1).

Indien die Thessalonicense én alle ander gelowiges hierdie voorskrifte getrou navolg, sal ons as mense van God volkome wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. God sal geëer word en alles wat ons doen, sal binne die verband van Christus se ewige koninkryk van waarde wees.

 

2 Thess. 1: Lyding en Toetsing

Hierdie brief is ‘n direkte vervolg op 1 Thessalonicense. Paulus het dit vroeg in die jare 50 geskryf, slegs ‘n paar maande ná die eerste brief. Die doel met die brief was om verkeerde opvattings in verband met die dag van die Here by gemeentelede in die kiem te smoor en aan hulle ‘n duidelike teken te gee waaraan hulle sou weet dat die dag van die Here nog nie aangebreek het nie. Hierdie teken is die openbaring van die Antichris as die mens van sonde, wat homself in die tempel in Jerusalem tot God sal verklaar.

Die verkeerde idees oor die dag van die Here het hulle oorsprong by die vervolging gehad wat Christene in die Romeinse Ryk gely het, en wat sommige laat dink het dat die dag van die Here se toorn reeds aangebreek het. Die misleides het selfs vervalste briewe in Paulus se naam uitgestuur waarin beweer is dat hulle klaar in die dag van die Here was. As gevolg van die verkeerde idee dat die verdrukking al begin het en dat Christus enige dag kon terugkom, het sekere lidmate hulle werk gelos en onordelik geleef. Paulus moedig hulle aan om te volhard in die geloof en waarsku teen die negatiewe gevolge wat leerdwaling op ‘n gelowige se lewe het.

Opskrif en seëngroet (v. 1-2)

Paulus, Silas en Timótheus, al drie saam in Korinthe, groet die broeders in Thessalonika met ‘n hartlike groet in die Naam van die Here. Die gemeente in Thessalonika is in God die Vader en die Here Jesus Christus. Dit is inderdaad ‘n gemeente van die Here en nie net ‘n sosiale samekoms van mense nie. God is die Vader wat al sy liefde en ryke hemelse seëninge aan hulle betoon in die Here Jesus Christus wat as Middelaar en Verlosser sy seëninge aan hulle tuisgebring het, en wat weer sal kom. ‘n Deel van hierdie seën van God is sy genade en vrede, waarin die eerste altyd die tweede voorafgaan. Genade beteken die hemelse gawe om as ‘n heiden en verlore sondaar God se vergifnis en kindskap sonder verdienste deelagtig te word. Vrede is die gevolg en uitwerking van dié genade op ons lewe, naamlik vrede met God, met onsself en met andere – ja, vrede te midde van die beproewings en hewige vervolging wat die Thessalonicense ervaar het.

Dank vir vooruitgang (v. 3-4)

Paulus het alle rede gehad om die Here te dank ná die positiewe berig wat hy van Thessalonika af ontvang het. Ten spyte van die negatiewe dinge – die vervolging, die leerstellige dwalings en die onordelikes in die gemeente – was dit sy eerste en belangrikste wens om die Here te dank. Mag ons ook elke keer en onder alle omstandighede eers die Here dank, want daar is altyd meer dinge om oor dankie te sê as om besorg en droewig oor te wees. Volgens die oorspronklike Griekse woord het Paulus die las op sy hart gehad om die Here eers oor die Thessalonicense te dank voordat ander sake geopper word.

Dit kon ook nie anders nie, want hierdie mense het in ‘n kort tydjie fenomenaal in hulle geloofslewe gegroei. Die gewone woord vir groei word hier die enigste keer in die Nuwe Testament met ‘n voorvoegsel geskryf waardeur die oortreffende trap aangedui word, met ander woorde buitengewone groei. Geloof is ‘n dinamiese eienskap van ‘n Christen se lewe, en dit moet konstant groei anders verval dit. Die vroeë dissipels het ‘n wankelende geloof gehad, daarom het die Here Jesus hulle dikwels as kleingelowiges beskryf wat deur twyfel en vrees oorkom is (Matt. 6:30; 8:26; 16:8; Mark. 4:40). Hulle het hulle behoefte aan ‘n sterker geloof besef en vir Christus gevra: “Gee ons meer geloof” (Luk. 17:5).

Om net gered te wees en verder slegs te sit en luister, is nie goed genoeg nie. Jesus Christus wil nie net aan ons die ewige lewe verseker nie, Hy wil Here wees van ons lewe en onder alle omstandighede vertrou word. Hy gee aan ons die nodige kennis oor die goddelose wêreld en sy toekoms, asook oor die feit dat Hy weer kom om ons te kom haal, sodat ons ‘n hoopvolle toekoms kan hê en Hom onder alle omstandighede sal vertrou.

Waarom het die Thessalonicense so geweldig in hulle geloof gegroei? Hulle het onder swaar vervolging volhard op die weg van die Here, en daardeur ‘n voorbeeld vir ander gemeentes gestel. Paulus sê: “Ons roem in die gemeentes van God oor julle vanweë julle volharding en geloof onder al julle vervolginge en verdrukkinge wat julle verduur” (v. 4).

Hulle was in só ‘n situasie dat hulle nie op hulle louere kon rus en vir ‘n salige toekoms wag nie – hulle móés die Here van dag tot dag vir hulle voortbestaan vertrou. Romeine 5:3-4 sê dat die verdrukkings tot geestelike beproefdheid en ‘n sterk hoop op Christus lei. Dit is ‘n groot uitdaging om die krisisse en beproewings van die lewe altyd deur geloof en die genade van die Here te hanteer en te bowe te kom. Hierdie vertroue moet sterk onderskei word van die gedagte aan ‘n voorspoedsevangelie, as sou die Here wil hê dat ons Hom vir rykdom, ‘n kommervrye en ‘n siektevrye lewe moet vertrou. Nee, beproewings en tugtiging is deel van die kinders van die Here se leerskool waardeur ons met die oog op geestelike groei en diensbaarheid gelouter word. “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk” (Jak. 1:2-3).

2 Thessalonicense 1 stel die saak van God se geregtigheid baie duidelik. Mense wat ly omdat hulle in hul huislike en alledaagse lewe beproef word, sê maklik: “Dit is nie regverdig nie,” of: “Is God regverdig om dit oor my toe te laat?” Vers 5 sê dat hierdie beproewings ‘n teken en geleentheid is om God se geregtigheid raak te sien. Diegene wat nou ly omdat hulle die koninkryk van die duisternis teëstaan, sal in die volle heerlikheid van God se koninkryk deel wanneer dit geopenbaar word – hulle sal op trone saam met Christus regeer. Dit is tog so belangrik dat Christene sal leer om in alle omstandighede, veral ook in beproewings, die lang termyn gesigspunt te handhaaf. Hou die koninkryk in gedagte wat die Here ook vir jou berei, want dit is jou beloning en bestemming.

Hierdie is ook een van die belangrikste elemente van vermaning teenoor mense met persoonlikheids- en ander probleme. Die groot siekte van ons tyd is dat mense ín en vír hierdie wêreld leef, en dat hulle toekomsverwagting so vaag of selfs totaal afwesig is, dat hulle noodwendig wêreldgelykvormig word. Die kerke van vandag dra hoofsaaklik morele lesse aan mense oor, maar sonder die geregtigheid van God is dit nutteloos.

Die geregtigheid van God is deur die kruisdood van Jesus Christus aan ons bewys, omdat dit die enigste weg tot versoening met Hom is deur ‘n mensdom wat in ongeregtigheid verval het. Paulus sê: “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly wat tevore gedoen is” (Rom. 3:25). As ons die verwerpte en gekruisigde Christus volg, sal ons ook deur die sondige wêreld verwerp en vervolg word. Ons moet egter moed hou, want Christus is die Oorwinnaar en sy dissipels sal eendag in sy koninkryk saam met Hom regeer.

Kerke wat nie die kruisdood van Jesus beklemtoon nie, asook die feit dat dit God se geregtigheid bewerk omdat Jesus die straf vir ons sonde gedra het, is met halwe waarhede en ‘n valse evangelie besig – ‘n evangelie sonder die kruis. Dit help nie om boeke te skryf, preke te lewer en lang, 40 dae programme van toewyding te volg waarin al Christus se seëning aan mense beloof word, sonder om die sentrale betekenis van sy kruisdood, asook die vervolging wat dit noodwendig vir sy dissipels meebring, te noem nie. Die Thessalonicense het hulleself nie hieraan skuldig gemaak nie.

In hierdie lewe word ons vir niks beloon nie. Die gedagte van die koninkryk waaraan ons sal deel is grootliks, soos ook hier in vers 5, ‘n toekomstige saak. In 1 Thessalonicense 2:12 het Paulus aan die gemeente gesê dat hulle “waardig moet wandel voor God wat hulle tot sy koninkryk en heerlikheid roep.” Dit is nog nie aan ons geopenbaar nie. Daar is egter ‘n aspek van die koninkryk wat ons nou reeds beërf. Kolossense 1:13 sê dat God ons “verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde.” Hierdie aspek van die koninkryk wat nou al teenwoordig is, is geestelik en onsigbaar. Dit is in die harte van gelowiges verborge, wat deur die Heilige Gees met die liefde van God vervul is.

Tans word die koninkryk van God nie regtig in ons uiterlike omstandighede ervaar nie, maar in ons harte waar die vrede van die Here heers. “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom. 14:17). Vir die Christen is hierdie bedeling ‘n tyd van lyding, beproewing, toetsing, voorbereiding en volharding. Ons aanvaar dit alles met blydskap, want in die toekoms sal die heerlikheid ons deel wees.

Dit is ook die paadjie wat Jesus hier op aarde bewandel het – deur lyding het God Hom na heerlikheid gelei. Die patroon van die wêreld is anders. Hulle uitgangspunt is om te eet, te drink en vrolik te wees solank hulle kan, want daarna volg die lyding en die oordele. Paulus sê: “Dit is reg by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergeld, en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus Christus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte” (2 Thess. 1:6-9).

Hulle wat buite die liggaam van Christus is en ook aan die verdrukking van die Christene deelneem, sal self verdruk word op die dag wanneer die Here in toorn optree. Aan dié wat God nie ken nie en aan sy evangelie ongehoorsaam was, sal wraak uitgemeet word. Vir die ongereddes hou die wederkoms net verdrukking en oordele in. Vir die gereddes, daarenteen, lyk die huidige situasie nie na ‘n saak van blydskap nie, maar hulle het ‘n blye vooruitsig op heerlikheid, beloning en seën wanneer die Here kom.

Christus kom “om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (v. 10). Hulle hoop en verwagting sal in Hom vervul word. Op die dag wanneer Hy hulle kom haal, sal hulle nie net verligting van hulle verdrukking kry nie, maar finaal daarvan verlos word. Die verlossing wat die Here aan hulle bring sal egter, uit die oogpunt van die verdrukkers, eers afgehandel wees wanneer die goddeloses op die dag van Christus se wederkoms ná die sewe jaar, gestraf is.

Hierdie hoofstuk in 2 Thessalonicense veroorsaak baie probleme vir die amillennialiste, of antichiliaste – dit is die koninkrykspredikers wat glo dat  die duiwel gebind is en dat ons nou reeds in die vrederyk is. Dié hoofstuk maak dit baie duidelik dat ons eers in die toekomstige koninkryk beloon sal word. Die antichiliaste glo ook verkeerdelik dat die gelowiges én ongelowiges almal saam by die wederkoms geoordeel sal word. Hierdie verse maak dit duidelik dat daar ‘n skrille kontras tussen God se program vir sy kinders en sy program vir die wêreld is. Die gelowiges sal die Here Jesus bewonder wanneer hulle Hom as die hemelse Bruidegom in die lug ontmoet, maar oor die ongelowiges sal sy toorn uitgestort word.

Die antichiliaste het nie ‘n duidelike toekomsverwagting nie, maar begewe hulleself nogtans in ‘n veldtog van verdagmakery teen diegene wat wél ‘n logiese en sistematiese eskatologie verkondig. Deur hierdie teenproduktiewe benadering verarm hulle egter net hulleself en beoefen geestelike tonnelvisie waardeur sinvolle wederkomsprediking in hierdie laat uur van die kerkdispensasie onmoontlik gemaak word. Selfs nie eers die klaarblyklike erns van die Nuwe Era Beweging, as deel van die antichristelike aanslag teen die fundamentele Christendom, verkry die nodige prominensie in aktuele prediking oor ons tyd nie. Daar is selfs diegene onder hulle wat beweer dat die Nuwe Era Beweging se ideologie van godsdienstige en politieke wêreldeenheid aanvaarbaar is omdat dit op die ideaal van eenheid en vrede tussen alle mense en ideologieë ingestel is.

Dit is van die uiterste belang dat ons sal weet wat die Bybel oor die toekoms leer, as ons in hierdie moeilike tye geestelik wil oorleef. Die duiwel sorg daarvoor dat die kerk verstrengel raak in interpretasies van die Bybel wat op ‘n  geopenbaarde koninkryk en groot seëninge van die Here in hierdie bedeling ingestel is, gevolglik word daar nie meer na die toekomstige vervulling van profesieë tydens Christus se wederkoms gekyk nie. Volgens dié siening leef ons nóú in die vrederyk waaroor Christus geestelik regeer. Eenheid, harmonie en vrede moet nóú tussen alle mense heers, groot tekens en wonders moet met die uitbreiding van God se koninkryk gepaard gaan, en groot verdraagsaamheid teenoor almal beoefen word wat nie die Christelike geloof beoefen nie. Die onbybelse siening word gepropageer dat almal tóg maar dieselfde God aanbid. Sonde moet nie beklemtoon word nie, want mense moet vry wees om te doen wat hulle wil. God se oordeel oor sondaars moet ook nie genoem word nie – eerder sy liefde vir alle mense. Só kry die Christendom ‘n heel ander gedaante en karakter as dit wat in die Bybel beskryf word.

Ons moet ons pad in ooreenstemming met God se Woord suiwer hou, want so alleen sal Hy ons waardig die roeping ag waarmee Hy ons geroep het. Ons moet van sy raadsplan vir die gelowiges én die ongelowige wêreld kennis dra – nie om ons nuuskierigheid te prikkel nie, maar om ons geestelik op te skerp. Alleen wanneer ons weet wat God se plan met ons en die wêreld is, kan ons daaraan begin werk om waardig volgens ons roeping te wandel, oorvloedig te wees in ons arbeid vir die Here en met blydskap uit te sien na die beloning wat kom.

Die einddoel hiermee is “sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in ons verheerlik kan word en ons in Hom, ooreenkomstig die genade van onse God en die Here Jesus Christus” (v. 12). Ons het die geleentheid om in ons beproewing en lyding standvastig en blymoedig die eer van Christus te soek. Word die beginsels en karakter van Jesus Christus se lewe ook in jou lewe gesien? Hy wil jou deur sy Heilige Gees in staat stel om dit te kan doen.

Dit is so dat die ganse skepping die eer van God verkondig  (Ps. 19:2), maar die hemele en die aarde kan nie die liefde, genade, lankmoedigheid en geregtigheid van God verkondig nie. Ons moet dit doen, daarom gaan Hy aan ons betoon wat die uitnemende rykdom van sy genade en goedertierenheid in Christus Jesus oor ons is.

Paulus se belangrike boodskap in hierdie hoofstuk is dat Christene ten alle tye ‘n Bybelse perspektief op hulle lewe én eindbestemming moet hê. Ons moet toesien dat ons alle vorms van verdrukking in die wêreld in die lig van ons hemelse roeping beskou en hanteer. Vir ‘n ander gemeente het hy gesê: “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid, omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele” (2 Kor. 4:16–5:1).

In hierdie verbygaande wêreld waarin alles vergaan, ook ons menslike liggame, stel ons onsself tot die Here se beskikking as medestryders in die uitbreiding van sy koninkryk. Ons leef vir ‘n onsigbare koninkryk wat nog geopenbaar moet word, en dit is ons heerlike einddoel. Wanneer daardie onverganklike, hemelse koninkryk geopenbaar word, sal ons ook onverganklike, hemelse liggame hê. Wat ‘n heerlike doel om voor te lewe!

Paulus sluit hierdie hoofstuk met ‘n gebed af dat die Thessalonicense in die lig van hulle hoë roeping en hemelse bestemming waardig sal wandel. Hy en die evangeliste wat saam met hom gereis het, het gereeld vir die gemeente in Thessalonika gebid, wie se geestelike welsyn altyd op hulle harte was. Hulle het gebid dat die Here die gemeentelede getrou sou maak as dissipels en getuies van Hom, sodat hulle heilig em onberispelik in hulle wandel sou wees. Christene leef nie waardig sodat hulle gered kan word nie, maar omdat hulle reeds gered is.

Voorbidding is ook gedoen dat die werke van hulle geloof volkome sou wees, en dat die Naam van Jesus Christus in hulle lewens en bediening verheerlik sou word. Die einddoel van hierdie gebed was die verheerliking van God. Paulus het gebid dat God in die alledaagse lewens van die Thessalonicense verheerlik sou word én ook tydens die openbaring van Jesus Christus. Wanneer dit gebeur, sal die menslike werktuie wat deur die Here gebruik is, ook verheerlik word. Deur die genade van die Here is hierdie gebedsversoeke verhoor.

Dit is opvallend dat Paulus telkens in sy brief twee titels van Jesus saam met sy eienaam gebruik, naamlik “Here Jesus Christus.” Hierdeur word sterk klem op die feit gelê dat Jesus Here én Christus is. Die mens Jesus is dus nie net Christus, die Gesalfde van God nie, maar Hy is self ook Here (Grieks Kurios en Hebreeus Jahweh). Geen ruimte is by sy lesers gelaat om Jesus se godheid te ontken deur Hom byvoorbeeld net as ‘n groot profeet te beskou, of as die Seun van God wat volgens sommige mense minder belangrik as die Vader is nie.

Die Here Jesus het, soos die Vader en die Heilige Gees, ‘n ewige selfbestaan en moet ook saam met die Vader en die Gees as die Skepper van die wêreld geëer word: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:15-17).

Hy het ‘n naam wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sou buig (Fil. 2:9-11). Diegene wat Hom nie in dié bedeling as hulle Verlosser aanvaar nie, sal deur Hom gestraf word wanneer Hy by die verskyning van sy koninkryk as Regter die goddeloses sal oordeel.

 

2 Thess. 2: Verskyning van die Mens van Sonde

Die vervolging wat die Christene in die Romeinse Ryk verduur het, het tot groot benoudheid en baie vrae aanleiding gegee – ook in Thessalonika. Onder die aanstigting van vyande van die evangelie van Christus, asook deur mense wat sogenaamde “openbarings” gehad het, is in die naam van Paulus ‘n vervalste brief aan die gemeente geskryf waardeur verwarrende lering oor die wederkoms versprei is. Hierin is beweer dat die dag van die Here (die tyd van oordele en verdrukking) reeds aangebreek het en dat die Christene déúr dit moes gaan. Die leer oor die wegraping van gelowiges vóór die verdrukking is hierdeur weerlê en bespotlik gemaak.

Paulus skryf sy tweede brief aan die gemeente met die volgende twee oogmerke: (1) Om die valse gerugte oor die eindtyd te weerlê, en (2) om vrae wat hy van gemeentelede oor die wederkoms van Christus en sekere ander sake ontvang het, te beantwoord. In hoofstuk 2 spreek hy homself spesifiek ten opsigte van “die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom” uit, m.a.w. die wegraping. Daarna verstrek en herbevestig hy die regte volgorde van eindtydse gebeure:

“Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees – asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval [die vertrek] kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

“Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:1-12).

Paulus stel in hierdie gedeelte duidelik die basiese feite omtrent die vertrek van die teëhouer, die openbaring van die Antichris en sy verdelging tydens Christus se wederkoms.

Weerlegging van wanopvattings

Die wanopvattings wat na aanleiding van die valse gerugte in Thessalonika posgevat het, was dat die Antichris reeds in die gedaante van die Romeinse keiser gekom het, wat homself inderdaad ook vergoddelik het. Die gepaardgaande verdrukking van die Christene is as die oordele van die dag van die Here beskou. Paniek het ontstaan oor die verwagting van groter vervolging en oordele wat sou volg, asook die feit dat die Here nie, soos Paulus gesê het, die Christene voor die tyd van oordele en benoudheid kom haal het nie.

Paulus herbevestig aan die gemeente dat daar éérs ‘n vertrek (apostasia) moet plaasvind, daarna sal die mens van sonde en seun van die verderf (die Antichris) geopenbaar word. Wanneer hy gekom het, sal hy homself in die tempel van God (in Jerusalem) tot God verklaar. Dit het in daardie stadium nog nié gebeur nie (2 Thess. 2:3-4).

Hierna herhaal Paulus die volgorde van eindtydse gebeure en verstrek terselfdertyd meer besonderhede oor wat in daardie tyd sal gebeur. Hy herinner die gemeente ook aan sy preke wat hy hieroor gelewer het: “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?” (2 Thess. 2:5). Vanaf vers 6 sê hy dat éérs moet die teëhouer uit die weg geruim word (die wegraping van die gemeente), dán sal die ongeregtige (die Antichris) geopenbaar word. Hy sê ook dat die Antichris ‘n lewende persoon op aarde sal wees wanneer Christus hom deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.

Daar was dus geen bestaansreg vir die valse gerugte in die naam van Paulus dat daar nie ‘n wegraping voor die verdrukking is nie. Daar het ook geen waarheid in die bewerings gesteek dat die Here die Christene aan die tirannie van die Antichris uitgelewer het en hulle saam met die sondaars sou straf nie.

Die vertrek (apostasia)

‘n Woord in 2 Thessalonicense 2:3 wat vir baie mense probleme skep, is dié een wat in ons Bybel as “afval” en in die King James Version as “falling away” vertaal is. In die lig hiervan word beweer dat ons eers die groot afval van die laaste dae en die daaropvolgende openbaring van die Antichris moet beleef, dán sal die Here ons een of ander tyd gedurende die verdrukking kom haal. Dit is egter hoegenaamd nie die geval nie.

Die betrokke Griekse woord is “apostasia.” Dit beteken skeiding of vertrek. Die werkwoordsvorm van “apostasia” is “afistemi” wat vertaal kan word as vertrek, wegneem, weggaan, onttrek, wyk, skei of wegval. In drie van die dertien keer waar die werkwoord “afistemi” in die Nuwe Testament voorkom, dui dit op geloofsverval, m.a.w. die verskynsel dat mense uit hulle geloof wegval. Hierdie tekste is die volgende:

Luk. 8:13. “…in die tyd van versoeking val hulle af.”

1 Tim. 4:1. “…van die geloof afvallig sal word…” (Die King James Version sê “…depart from the faith,” wat duidelik op ‘n vertrek vanaf die waarheid af dui).

Heb. 3:12. “…van die lewende God afvallig word…”

Uit die ander tien gevalle blyk “afistemi” se grondbetekenis van skeiding of vertrek baie duidelik: Luk. 2:37: weggebly; Luk. 4:13: gewyk; Luk. 13:27: gaan weg; Hand. 12:10: verlaat; Hand. 15:38: verlaat; Hand. 19:9: weggegaan; Hand. 22:29: laat staan; 2 Kor. 12:8: wyk; 1 Tim. 6:5: onttrek; en 2 Tim. 2:19: afstand doen.

In die lig van hierdie voorbeelde is dit duidelik dat die grondbetekenis van die woord “apostasia” en sy werkwoord “afistemi” duidelik vertrek (Eng. depart) is. Dit is die rede waarom “apostasia” in 2 Thess. 2:3 in die volgende sewe Engelse Bybels voor die King James Version van 1611 as “departing first” vertaal is en nie as “falling away” nie: Die Wycliffe Bible, Tyndale Bible, Coverdale Bible, Cranmer Bible, Breeches Bible, Beza Bible, en die Geneva Bible.

Die Amplified Bible erken dié betekenis in ‘n voetnota oor “afvalligheid”: “A possible rendering of apostasia is departure [of the church].” 2 Thessalonicense 2:3 se volle betekenis is dus:

“…eers moet die vertrek [van die kerk] plaasvind en die mens van sonde [die Antichris] geopenbaar word, die seun van die verderf…”

Botsende sienings

Die botsende sienings van ons tyd het nie so seer met onkunde oor die betekenis van “apostasia” te doen as wat dit met dogmatiese vooroordele te doen het nie. So baie mense wil, in blinde navolging van hulle kerke se teoloë, net eenvoudig nie in ‘n wegraping voor die openbaring van die Antichris glo nie, daarom vereng hulle “apostasia” se betekenis tot slegs geestelike afvalligheid en niks meer nie.

‘n Eerlike en bybelgetroue uitleg van 2 Thess. 2:3 is dat “apostasia” in die volle omvang van sy betekenis bedoel word – beide wat “vertrek” en “geestelike verval” beteken. Die woord moet dus nie tot sy afgeleide betekenis van “afvalligheid” beperk word nie.

Paulus verwys hier na die fisiese vertrek van die ware gelowiges wat nie vir God se toorn bestem is nie. Die gevolg hiervan sal wees dat die Antichris geopenbaar word en veroorsaak dat sonde en ongeregtigheid op aarde sal floreer. Die grootste wegval uit Christelike standaarde en Bybelse norme van alle tye sal tydens sy bewind plaasvind.

Paulus stel dus eers die feit van die wegraping, die openbaring van die Antichris en sy goddelose hervormings in vers 3 waar hy sê: “eers moet die afval, of vertrek, kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf. Daarna herhaal hy dit met die byvoeging van verdere besonderhede in verse 7 tot 8: “...hy wat nou teëhou, sal uit die weg geruim word; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word.”

Die teëhouer

Negatiewe houdings oor die wegraping voor die verdrukking lei ook na skewe sienings oor die teëhouer van die Antichris. Daar is duidelik net een mag wat sterker as dié van Satan en die Antichris is, en dit is die mag van God. Daar is geen aardse of menslike mag wat teen Satan bestand is nie. In die huidige bedeling, voor die persoonlike openbaring van Christus en die Antichris, is daar ‘n geestelike stryd vir heerskappy op die aarde aan die gang. Die Gees van God en die verleidende geeste van Satan werk deur mense om hulle doel te bereik. Johannes sê:

“Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is… Hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling” (1 Joh. 4:2-6).

Die uitdrukking “hy wat nou teëhou” (2 Thess. 2:7) word in kleinletters geskryf en verwys na die kerk as die liggaam van Christus op aarde. Ons is die tempel waarin die Heilige Gees woon, en daarom is ons die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde. Ons hou deur die krag van die Heilige Gees die openbaring en magsoorname van die Antichris teë. Eers wanneer die ware kerk deur middel van die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris as persoon geopenbaar kan word. Hy sal dan sonder teëstand deur ‘n geestelik dooie en misleide mensdom as hulle gemeenskaplike messias en wêreldleier aanvaar word.

Dit is onbybels om te beweer dat die Heilige Gees die teëhouer is wat van die aarde af weggeneem word. Dit is wél deur die krag van die Heilige Gees dat die kerk die Antichris kan teëstaan, maar die Heilige Gees self word nie weggeneem nie.

Miljoene mense gaan in die sewe jaar lange verdrukking gered word (Op. 7:9-14), en dit is net deur die bemiddeling van die Heilige Gees moontlik (1 Kor. 12:3). Voor die sigbare koms van Jesus aan die einde van die sewe jaar sal daar selfs ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees oor Israel wees om hulle op hul versoening met die Messias voor te berei: “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10).

Dit is dus heeltemal verkeerd om te beweer dat die Heilige Gees van die aarde af weggeneem sal word. Omdat die kerk weg is, sal die Gees nie meer in sy pinkstervolheid werksaam wees nie, maar Hy sal nogtans hier wees as die Gees van strafgerig (Jes. 4:4) asook die Gees wat mense van sonde oortuig (Joh. 16:8) en wederbaar.

Aard van die afval

Die afval wat ná die openbaring van die Antichris op aarde sal plaasvind, sal baie erger as die afvalligheid van die laaste dae voor die wegraping wees (vgl. 1 Tim. 4:1, 2 Tim. 3:1-5 en 4:2-4). Wanneer die Antichris gekom het, sal die hele aarde in morele en geestelike duisternis gedompel word. Uit die morele verval sal ‘n internasionale sonde-kultuur gestalte kry waarin die ergste denkbare immoraliteit, normloosheid, korrupsie, diefstal en wreedheid sal voorkom.

Die geestelike verval sal na die skepping van ‘n misleide alliansie van wêreldgodsdienste lei, waarvan die Antichris die gemeenskaplike messias sal wees. Op ‘n gegewe oomblik sal hy die herboude tempel in Jerusalem betree en homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Saam met hom sal die duiwel aanbid word (Op. 13:4) en dit sal die ergste vorm van geestelike verval wees.

Eindtydse Antichris

Nog ‘n baie duidelike stelling wat Paulus oor die Antichris maak, is dat hy ‘n eindtydse wêrelddiktator sal wees. Sy openbare optrede sal deur die wederkoms van Jesus beëindig word: “…hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:8). Hierdie duidelike stelling sluit alle historiese diktators en godsdiensleiers uit. Hulle was net antichriste in die kleine maar nie die finale, eindtydse Antichris nie. Johannes sê: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste” (1 Joh. 2:18).

Neem ook die volgende uitsprake oor die Antichris in ag: In Daniël 9:27 word gesê dat hy vir een jaarweek (van sewe jaar) met baie nasies ‘n sterk verbond sal sluit. In die middel van die week, m.a.w. ná 3½ jaar, sal hy die offerdiens in die tempel in Jerusalem laat staak en ‘n genadelose skrikbewind instel (Dan. 9:27). Hy sal die tempel ontheilig, ‘n gruwelike afgodsbeeld van homself daarin laat oprig en alle godsdienste ter wille van die aanbidding van homself afskaf (Dan. 11:31,36). Jesus Christus het hierna verwys toe Hy in Mattheus 24:15-21 van die groot verdrukking pas voor sy wederkoms gepraat het. Dit is duidelik ‘n eindtydse situasie, want in Mattheus 24:29-30 sê die Here Jesus dat sy sigbare koms direk ná die groot verdrukking sal plaasvind.

In Openbaring 19:19-20 beskryf Johannes die leidende rol wat die Antichris en die valse profeet in die komende verdrukking sal speel, en in hierdie geval spesifiek in die groot oorlog van Armageddon. Hulle sal lewend gevang en in die poel van vuur gegooi word op die dag wanneer Jesus Christus met sy wederkoms uit die hemel neerdaal. Dit alleen is ‘n onweerlegbare bewys dat die Antichris ‘n eindtydse figuur sal wees wat eers op die dag van die wederkoms verdelg sal word. Hy is nie ‘n historiese figuur nie.

Vertroosting van die heiliges

In 2 Thessalonicense 2:13 tot 17 is woorde van bemoediging en vertroosting vir die ware gelowiges. Dit is in skerp teenstelling met dié wat verlore gaan omdat hulle in die leuens van die Antichris geglo en op grond daarvan geoordeel gaan word (vers 10-12).

Die saligheid, of verlossing, wat die gelowiges deelagtig geword het, het verskillende aspekte waarvan ons kennis moet neem. Dit verwys eerstens na die eenmalige verlossing van sonde by die wedergeboorte, tweedens na die voortgaande verlossing van die liste van die duiwel, derdens na die toekomstige verlossing uit die oordele van die groot verdrukking (vgl. 1 Thess. 5:9), en vierdens na die toekomstige verlossing van ons verganklike liggame wanneer ons by die wegraping verheerlikte liggame sal kry.

Die dag van God se oordeel, toorn en wraak verwys na die komende verdrukking wat ná die wegraping sal aanbreek. Wee hulle wat in daardie tyd op aarde sal wees, want Paulus sê dat ‘n skielike verderf hulle sal oorval (1 Thess. 5:3). Dit sal onder die Antichris se skrikbewind wees. Hy sal deur ‘n leuengees van Satan ‘n sterk invloed op die ongereddes en vormgodsdienstiges op aarde hê, wat sal veroorsaak dat hulle heelhartig in sy leuens sal glo (2 Thess. 2:10-12).

Dit is duidelik dat die dag van God se wraak en toorn absoluut voor die deur is. Die hele wêreld skreeu nou vir vrede en veiligheid. Hulle is ook, soos nooit tevore nie, onder die invloed van sataniese tekens en wonderwerke wat die grondslag vir ‘n valse herlewing vorm. Hulle het vir Jesus verwerp, maar die komende Antichris sal deur hulle omhels en aanbid word. Johannes sê dat die hele wêreld verwonderd agter die dier sal aangaan en hom openlik sal aanbid as gevolg van die groot magte wat hy het (Op. 13:3-4).

Ons leef in ‘n tyd van groot misleiding, ook in die tradisioneel Christelike wêreld, en dit is ons plig om die boodskap van die wegraping met groot oortuiging te verkondig. Christene het ‘n hemelse bestemming en sal deur middel van die wegvoering die oordele van die verdrukking ontvlug.

Soos wat hoofstuk 2 begin het met ‘n oproep om nie van stryk gebring te word deur verkeerde berigte en wanvoorstellings van God se raadsplan nie, sluit Paulus nou af met ‘n oproep dat die gemeentelede vas moet staan in die voorskrifte wat hulle ontvang het. Hierdie voorskrifte moet nie met wette verwar word nie, want Paulus verwys hier na die inhoud van die evangelie, asook eindtydse profesieë, wat hy mondelings en deur middel van sy briewe aan hulle oorgedra het. Gelowiges wat aan hierdie waarhede vashou, sal ‘n teëhouende faktor teen die openbaring van die Antichris wees. Eers wanneer hulle deur middel van die wegraping uit die weg geruim is, sal die mens van sonde geopenbaar kan word en ook daarin slaag om deur die ganse misleide wêreld aanvaar en aanbid te word.

 

2 Thess. 3: Getrouheid Onder Alle Omstandighede

Paulus sluit sy brief aan die Thessalonicense met verskillende vermanings en bemoedigings af. Hy begin met gebedsversoeke:

“Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle” (v. 1). Wanneer hy die mense vra om vir hom te bid, dan gaan dit nie oor tydelike en materiële dinge nie, maar oor sy diensbaarheid aan die Here. Selfs waar dit gaan oor sy boeie in die gevangenis (Kol. 4:3) vra hy nie voorbidding ter wille van homself, sy veiligheid en vryheid nie, maar net dat daar ‘n geopende deur vir die evangelie sal wees. So ook vra hy in Efesiërs 6:19-20 dat die gemeentelede sal bid dat hy, terwyl hy in kettings is, met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend sal maak. Hierdie verborgenheid is die boodskap van redding deur genade op grond van die kruisevangelie – nie op grond van wetsnakoming of seremonies en rituele deur godsdienstige ampsdraers nie.

Die gebedsversoeke word in vers 2 voortgesit waar Paulus vra “dat ons verlos mag word van die verkeerde en slegte mense, want die geloof is nie die deel van almal nie.” Kwaadwillige Jode het Paulus gedurig vervolg en die swye probeer oplê. Hulle het ook Grieke en lede van ander volke teen Paulus opgesweep deur te beweer dat hy ‘n valse leer verkondig. Hulle het gesê dat hy die mense dislojaal teenoor die keiser maak omdat hy ‘n ander koning en koninkryk verkondig. Wat hierdie gebedsversoek betref, vereenselwig Paulus homself met die gemeente, wat soortgelyke vervolging verduur het (vgl. 2 Thess. 1:6-7).

In vers 3 reageer Paulus op die probleem van vervolging deur aan te dui dat die Here ‘n toevlug vir sy kinders is en hulle teen aanslae van die Bose sal beskerm: “Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose.” Vir ‘n ander gemeente het hy gesê: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bó julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Kor. 10:13).

Hieruit is dit baie duidelik dat Christene nie aan die duiwel uitgelewer word sodat hy met ons kan doen wat hy wil nie. Ons word egter ook nie van sy aanvalle en versoekings gevrywaar nie, maar die Here beloof aan ons krag om staande te bly en die versoekings en aanslae te oorwin. Vir die Efesiërs het hy gesê: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Die wapens van geloof en gebed moet saam met die Woord gebruik word, wat die swaard van die Gees is, sodat ons nie geestelik benadeel en mislei word nie, maar as oorwinnaars uit die stryd sal tree.

Die krag wat die Here deur die Heilige Gees aan ons bied, moet egter nie net vir geestelike oorlogvoering in die stryd teen die Bose gebruik word nie. Ons primêre opdrag is om met die krag van die Heilige Gees beklee te word sodat ons oral in die wêreld getuies vir Christus kan wees (Hand. 1:8). As ons nie die Here Jesus se opdragte uitvoer deur onsself in sy koninkryk diensbaar te maak nie, sal ons ‘n nuttelose geestelike lewe lei. Paulus sê in vers 4: “En ons vertrou aangaande julle in die Here dat julle doen en ook sal doen wat ons julle beveel.” Sy vertroue word in die Here gestel om die gemeente in beweging te bring, vir diens te roep en ook geestelik daarvoor toe te rus. Hy stel nie sy vertroue in mense om self inisiatief te neem en deur hulle eie krag die Here te dien nie.

In ooreenstemming met hierdie gedagte roep hy die gemeente in vers 5 op om op die goddelike agape liefde ingestel te wees en dit doelgerig onder moeilike omstandighede uit te leef: “Mag die Here julle harte rig tot die liefde van God en die lydsaamheid van Christus!” Die liefde van God is ‘n sterk motiverende krag – sonder dit sal ons nooit die stryd teen die koninkryk van die duisternis kan voer en oorwin nie. Paulus sê: “In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte... ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Rom. 8:38-39).

Ons moet daarteen waak om nie ‘n humanistiese beskouing van God se liefde te hê nie, want daar is ongelukkig mense wat dink dat hierdie liefde ons só verdraagsaam teenoor sonde en godsdienstige dwalings maak, dat ons teen niks of niemand weerstand sal bied nie. Hulle beskou dit as liefdeloos en veroordelend indien verkeerde dinge uitgewys en die straf van God oor sondaars verkondig word. Die regte voorstelling van God se liefde is egter dat ‘n liefdevolle Vader sy eniggebore Seun gegee het om ‘n wrede dood aan die kruis te sterf sodat die straf vir ons sonde betaal kon word. Wanneer hierdie liefde in ons harte uitgestort word, dan eis dit van ons om vir die sonde en die wêreld te sterf. Ons kan geen kompromie met die werke van die duisternis maak nie, maar moet dit eerder bestraf (Ef. 5:11).

Die liefde van God is só absoluut vry van kompromie dat dit glad nie in harmonie met die begeerlike liefde van die wêreld kan bestaan nie. Johannes sê: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:15-17). Die wêreld se liefde is op inpalm, selfverryking en selfverheerliking ingestel, daarom gee dit uitdrukking aan die hartstogte en begeerlikhede van die verdorwe vlees. God se liefde, daarenteen, gee homself  ter wille van die belange van ander. Dit reik uit na ‘n wêreld in sy nood en huiwer nie om die hoogste prys vir sondaars te betaal nie. Elke aspek daarvan weerspieël God se geregtigheid en genade.

Indien ons nie ten volle in God se liefde gewortel en gegrond is nie, en nog nie in ons verhoudings volmaak in sy liefde geword het nie, sal ‘n liefdevolle God ons selfs tugtig om sy heiligheid in ‘n groter mate deelagtig te word (Heb. 12:5-14). Moet nooit hierdie tugtiging, beproewings en verdrukking in jou lewe as liefdelose optrede aan God se kant sien nie – Hy laat dit toe in jou lewe omdat Hy ‘n hoë en verhewe doel daarmee het, om jou meer aan sy heiligheid gelykvormig te maak. Dit is om hierdie rede dat Paulus van die Thessalonicense verwag het om nog meer oorvloedig in die liefde van Christus te word.

Nie al die lidmate in die gemeente was op die regte geestelike standaard nie. In verse 6 tot 15 vind ons Paulus se vermanings in verband met onordelikheid. Hy het ook in ander gemeentes met probleme van wanordelikheid te doen gekry en homself sterk daarteen uitgespreek. Vir die Korinthiërs het hy gesê: “God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges” (1 Kor. 14:33). In hierdie geval het dit veral op wanorde in die gemeente gedui as gevolg van die spreek in tale wat daar misbruik is. In Thessalonika het die onordelikheid daarom gegaan dat mense opgehou het om te werk en sodoende ‘n las vir ander geword. Hy skryf aan hierdie gemeente:

“Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie. Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as ‘n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg. Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is. Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet. En julle, broeders, moet nie in goed doen verflou nie. En as iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken dié man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word. En beskou hom nie as ‘n vyand nie, maar vermaan hom as ‘n broeder” (v. 6-15).

Dit is duidelik uit Paulus se oproep dat elkeen vir sy eie onderhoud moet werk. Wat dit betref, het Paulus ‘n voortreflike voorbeeld aan die gemeente gestel en op geen offergawes deur hulle aangedring nie. “Nie dat ons nie die reg het nie,” het hy gesê. Hoewel hy die reg daartoe gehad het om onderhoud van hulle te ontvang, het hy ‘n voorbeeld van verantwoordelike en ordelike selfonderhoud aan die gemeente gestel. Dit was altyd beter vir hom om te gee as om te ontvang.

Wanneer alles in ‘n gemeente ordelik en reg verloop en elkeen sy plig gedoen het, het Paulus homself grootliks verbly. Hy het aan die Kolossense geskryf: “Ek verbly my om julle goeie orde te sien en die vastigheid van julle geloof in Christus” (Kol. 2:5). Die kern van die saak is altyd die gemeentelede se verhouding met Christus. Wanneer dinge in die gemeente verkeerd begin loop, is die belangrikste oorsaak daarvan ‘n gebrekkige geloofslewe. Paulus het die onordelike Korinthiërs se probleem só geïdentifiseer: “Ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus” (1 Kor. 3:1). Hulle was vol jaloersheid, twis en tweedrag en het hulle aan menseverering skuldig gemaak (1 Kor. 3:3-4). Die meeste van hulle was nie Geesvervuld nie en het dus nie Here behaag nie (1 Kor. 3:16; 6:19-20). By gemeente-etes waar die Nagmaal gevier is, is die eensgesindheid van die gemeente nie gedemonstreer en die waardigheid van die geleentheid nie eerbiedig nie, want party het honger daar weggegaan en ander was weer dronk omdat hulle té veel wyn gedrink het (1 Kor. 11:20-21). Wanneer daar in tale gespreek is, was dit soms onordelik (1 Kor. 14:26-33).

Die Galásiërs se onordelikheid was eweneens die gevolg van geestelike veragtering. Hulle het uit ‘n geestelike na ‘n vleeslike toestand teruggeval (Gal. 1:6; 3:3). Hulle het na ‘n ander evangelie geluister wat in stryd met die boodskap van Paulus was, en dit aanvaar in plaas daarvan om dit ‘n vervloeking te noem (Gal. 1:6-9). Hulle het die werke van wet met die genadeboodskap probeer versoen en sodoende die algenoegsaamheid van Christus se kruisdood verloën. Paulus het hulle op die ernstige implikasies hiervan gewys, naamlik die moontlikheid van totale geloofsverval (Gal. 5:2-4). Groot verdeeldheid en onordelikheid het as gevolg hiervan in die gemeente bestaan.

Die Efesiërs is gewaarsku dat ‘n gebrek aan geestelike groei na leerstellige wanordelikheid in die gemeente sou lei. Die gemeentelede sou kinders in die geloof bly wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering (Ef. 4:14).

Die Filippense is teen hoogmoed en verdeeldheid gewaarsku: “Maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n” (Fil. 2:2-4).

Die oplossing vir alle vorms van onordelikheid, bitterheid en vleeslikheid is ‘n intieme wandel met die Here, en ‘n absolute toewyding daaraan om sy wil te ken en te doen. Paulus het dit vir die Kolossense toegebid: “Daarom hou ons ook nie op nie om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardig voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9-10).

Die Thessalonicense is geprys oor hulle geloofslewe, liefde, ywer vir die Here en ook vir hulle bereidwilligheid om vir sy Naam te ly. Paulus het hulle egter daarop gewys dat hulle liefde nog meer oorvloedig moes word en dat hulle die Here vir die ondervinding van volkome heiligmaking moes vertrou (1 Thess. 3:12; 5:23-24). Hierbenewens was daar diegene in die gemeente wat die goeie orde versteur het toe hulle na valse gerugte geluister het dat die dag van die Here reeds aangebreek het, en dat die Here sy kinders eers ná die tyd van oordele sou kom haal. In die lig hiervan het sommiges hul werk bedank en moes ander gemeentelede vir hulle sorg. Dit het ‘n onnodige las op die gemeente geplaas, en ook leerstellige verdeeldheid geskep omdat die skuldiges ‘n verkeerde vertolking van Bybelse profesieë aangehang het.

Daar rus ook ‘n groot verantwoordelikheid op ons om nie datums vir die wederkoms te bepaal en sodoende aan ander mense ‘n verskoning te bied om op te hou werk of hulle studies te staak nie. So-iets sal ook in ons geval tot wanordelikheid, teleurstelling en groot ontnugtering onder Christene lei. Verskeie Christene het hulleself al hieraan skuldig gemaak en groot ontwrigting vir hulleself én hulle gesinne veroorsaak.

Ons opdrag is om Jesus Christus en sy reddende genade aan alle mense op aarde te verkondig totdat Hy ons kom haal. Ons moet hiermee besig bly, asook met die pastorale versorging van ander gelowiges. “Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy Heer, as Hy kom, op hierdie manier besig sal vind” (Matt. 24:46). Ons moet nie só op Christus se wederkoms ingestel wees dat ons nét dit verkondig nie – die Groot Opdrag van wêreldevangelisasie bly die belangrikste saak.

Dit beteken nie dat ons die tekens van die tye en die belofte van Christus se skielike koms vir sy Bruidsgemeente moet afskeep nie – hoegenaamd nie! Ons wederkomsverwagting maak die opdrag van evangelisasie nóg belangriker. Soos wat Paulus aan die Thessalonicense verduidelik het, moet ons Christelike lewe en bediening in die lig van Christus se wederkoms beplan en uitgevoer word. Dit is waarheen ons op pad is, en vir hierdie ontmoeting moet ons onberispelik in heiligheid wees. Die loon vir ons arbeid op aarde sal ons voor die regterstoel van Christus ontvang, daarom soek ons nie na eer, erkenning en beloning op aarde nie.

Ons is bereid om hier verdrukking te verduur omdat ons werk vir ‘n koninkryk wat nog nie op aarde geopenbaar is nie. Word jy deur hemelse genadeloon gemotiveer in dit wat jy nou vir die Here doen? Paulus sê: “Moses het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en het die smaad van Christus groter rykdom as die skatte van Egipte geag, want hy het uitgesien na die beloning” (Heb. 11:25-26). Hy het geweet dat Israel erg deur die koninkryk van die duisternis vervolg sou word omdat God beloof het dat sy Seun, die Verlosser van die wêreld, uit hierdie volk gebore sou word. Moses was bereid om Israel na die Beloofde Land te lei en in die voorpunt van die groot stryd tussen die koninkryke van die lig en die duisternis te staan, eerder as om in Egipte as ‘n prins in weelde en wêreldse genietinge op te groei, want hy het die ewige beloning vir sy roeping voor oë gehou.

Die Thessalonicense het ‘n sterk wederkomsverwagting gehad, en dit het hulle gemotiveer om uit te gaan en die evangelie in ‘n heidenwêreld te verkondig. Mag ons ook deur hierdie ingesteldheid gemotiveer word om dié wat nog buite is, in te bring sodat die bruilofsaal kan vol word – dan sal die Bruidegom kom!

Ons is beslis in die doodsnikke van die kerkbedeling op aarde, want ons het groot en belangrike tekens van die tye wat die vroeë kerk nie gehad het nie. Die belangrikste hiervan is die herstel van Israel in hulle land, dit is die bot van die vyeboom, en spesifiek ook die herstel van Jerusalem as Israel se hoofstad. Lukas 21:24 sê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.” Jerusalem was inderdaad dwarsdeur die kerkbedeling vertrap terwyl die volk Israel in ballingskap oral in die wêreld was.

Die huidige herstelfase van Jerusalem, wat weer in Augustus 1980 die hoofstad van die herstelde Israel geword het, is ‘n duidelike baken in eindtydse wêreldgebeure. Soos wat Israel toenemend na hulle land terugkeer om hulle belangrike rol as ‘n fisies én geestelik herstelde volk van God in die millennium te speel, moet die ware kerk van Christus voorberei om op ‘n onbekende oomblik die hemelse Bruidegom in die lug te ontmoet. Wanneer ons veilig in hemelse plekke is, sal die uur van duisternis op aarde aanbreek. Dan sal God se oordele oor die sondaars uitgestort word en die Antichris ‘n ongekende skrikbewind instel.

Paulus het dit in duidelike taal aan die Thessalonicense bevestig dat ons nie vir God se toorn bestem is nie. Om hierdie rede sal die ontslape heiliges onverganklik opgewek word en ons sal verander word sodat ons as ‘n enkele groep weggevoer kan word, Christus tegemoet in die lug. Eers hierna sal die mens van sonde, die Antichris, geopenbaar word en met kragtige dade en tekens en wonders van die leuen sy septer oor die misleide mensdom swaai. Ons is op die drumpel van hierdie dramatiese gebeure in die wêreldgeskiedenis.

Wat die wederkomsboodskap betref, is dit opvallend dat dit vir die eerste keer in heidense Europa van die eerste eeu in Thessalonika verkondig is. Dit was byna 2000 jaar gelede. Hierdie boodskap het deel van die Bybel geword en het dwarsdeur die eeue weerklink tot hier in die laaste geslag, vlak voor die wederkoms van Jesus Christus. Hoewel die Christendom in ‘n stadium sterk in Europa gestaan het, is hierdie vasteland besig om in geestelike duisternis weg te sink en het hulle weer nodig dat manne en vroue van God die suiwer woord van die Here aan hulle verkondig. Dieselfde geld ook vir Jerusalem, die geografiese geboorteplek van die Christelike kerk. Kragtige getuienis moet ook hier gelewer word dat Jesus Christus die Messias van Israel en Verlosser van die hele wêreld is. Waar is die vreeslose getuies van Christus wat bereid is om selfs te midde van verwerping en vervolging hierdie groot boodskap te verkondig?

Paulus sluit sy brief met ‘n seëngroet af wat aan almal gerig is wat die Here Jesus waarlik liefhet: “En mag Hy, die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse! Mag die Here met julle almal wees!” (2 Thess. 3:16).

Watchman Nee 27