Print

Studie oor die Book Daniël

Written by Prof Johan Malan.

Inleiding tot Daniël

Die boek Daniël is gedurende die Babiloniese ballingskap van Juda en Israel deur die profeet Daniël geskryf. Die profesieë hierin het op die toekoms van sowel Israel as die groot wêreldryke betrekking. Die tydsraamwerk van hierdie profesieë strek vanaf die Babiloniese ballingskap tot by die wederkoms van die ware Messias – dan sal die goddelose wêreldryke wat vir Israel vervolg het, beëindig en die koninkryk van Israel onder die leiding van die Messias herstel word.

Verskeie van die profetiese uitsprake in hierdie boek het ‘n eindtydse toepassing en sluit by Christus se profetiese rede oor die tyd kort voor sy wederkoms aan. Daniël verwys na die laaste jaarweek van Israel se heilsgeskiedenis voordat die Messias kom, en sê dat die valse messias dan die herboude tempel in Jerusalem sal ontheilig (Dan. 9:27; 11:31). Die Here Jesus het spesifiek na hierdie verse in Daniël verwys toe Hy oor die eindtyd gepraat het, en gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom... dan moet dié wat in Judéa is na die berge vlug... Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:15,16,21). Daar is ook verskeie parallelle tussen Daniël se profesieë en dié van Johannes in Openbaring.

Twee ballingskappe vir Israel

Wanneer ons die boek Daniël bestudeer, moet ons in gedagte hou dat die Here se waarskuwings oor ‘n ballingskap vir Israel weens hulle ongehoorsaamheid in twee stadiums vervul is – eers die beperkte Babiloniese ballingskap en later die lang internasionale verstrooiing van die volk. Waarskuwings oor die ernstige gevolge van Israel se geestelike afvalligheid dateer terug na die tyd van Moses.

Die Ou Testament bevat talle beloftes van seën vir die volk Israel indien hulle aan God getrou bly (Deut. 28:1-14), maar net soveel waarskuwings van sware straf weens ontrouheid (Deut. 28:15-68). In die geval van voortgesette goddeloosheid sou die Here uiteindelik die volk heeltemal uit hulle land verdryf en onder al die nasies van die aarde verstrooi laat raak, waar hulle verdruk sou word en voortdurende benoudheid beleef: “En die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde; en daar sal jy ander gode dien... En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie... En jou lewe sal voor jou aan ‘n draad hang” (Deut. 28:64-66).

In die boeke van die Ou Testament is daar verskeie profesieë oor die internasionale verstrooiing van Israel regoor die wêreld, asook hulle uiteindelike herstel uit die verstrooiing. Volgens Jesaja 11:12 sou Israel en Juda na die vier hoeke van die aarde weggevoer word. Jeremia verwys na “al die nasies” waarheen Israel verstrooi sou word (Jer. 30:11). Hy voeg by dat Israel tot in die Noordland (dit is Rusland) en die agterhoeke van die aarde verstrooi sou word (Jer. 31:8). Esegiël bevestig ook die feit dat Israel na baie volke verstrooi sou word (Eseg. 38:8).

Die internasionale verstrooiing van Israel het eers vroeg in Nuwe Testamentiese tye plaasgevind, toe Israel die maat van hulle ongeregtigheid volgemaak het deur ook die Messias te verwerp. Die Here Jesus het hulle gewaarsku dat Jerusalem beleër en ingeneem sou word, dat die stad verwoes en sy inwoners krygsgevange geneem sou word na alle nasies. Daarna sou Jerusalem deur die nasies vertrap word terwyl die tye van die nasies (dit is ook die tyd van wêreldevangelisasie) sy loop neem (Luk. 21:20-24). Die verwoesting van Jerusalem en die begin van Israel se internasionale verstrooiing het in 70 n.C. plaasgevind toe die Romeine die land onderwerp, hulle stede verwoes en die oorlewende inwoners uit die land verdryf het.

Benewens hierdie groot, internasionale verstrooiing van die volk, was daar ook die korter Babiloniese ballingskap na net een heidense koninkryk toe. Jeremia sê: “En hierdie hele land sal ‘n puinhoop, ‘n woesteny word; en hierdie nasies [dit is Israel en sy omliggende volke] sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien” (Jer. 25:11).

Historiese agtergrond

Verskeie profete het gewaarsku dat die volk in ballingskap weggevoer sou word as hulle in sonde volhard. Jesaja het vir Hiskia gesê: “Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders tot vandag toe opgehoop het, na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie, sê die Here. En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel” (2 Kon. 20:17-18).

Die noordelike tienstammeryk is in 722 v.C. na Assirië weggevoer. Ons lees in 2 Konings 17 van vers 6 af: “In die negende jaar van Hosea het die koning van Assirië Samaria ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië... want die kinders van Israel het gesondig teen die Here hulle God... hulle het die drekgode gedien waarvan die Here vir hulle gesê het: Julle mag dit nie doen nie.” Assirië is by Babilonië ingelyf nadat Ninevé in 612 v.C. deur Nebopolasser onderwerp is.

Die suidelike koninkryk van Juda het later aan die beurt gekom toe Jerusalem in die hande van Babilon geval het. Die Babiloniese ballingskap is in drie fases voltrek: In 605 v.C. is Daniël en sy drie vriende saam met ander uitgesoekte jong Jode na Babilon weggevoer. In 597 v.C. is ongeveer 10 000 mense weggevoer (2 Kon. 24:11-16). In 586 v.C. is Jerusalem verwoes en het  Judéa ‘n provinsie van Babel geword (2 Kon. 25:1-21).

In die boek Daniël lees ons van die eerste fase van die wegvoering. In die maand Nisan (April) 605 v.C. was Nebopolasser nog koning van Babilon en hy het sy seun, Nebukadnésar, gestuur om die Assiries-Egiptiese bondgenootskap te gaan verbreek. Die Egiptenare is in ‘n groot slag by Karkemis verslaan, en daarna is die Siries-Palestynse gebiede ook onderwerp. Nebopolasser is op 8 Ab (15 Augustus) 605 v.C. in Babilonië dood, en Nebukadnésar het teruggegaan Babilon toe om sy pa as koning op te volg. Hy het ook vir Daniël en sy drie vriende wat in Jerusalem gevange geneem is, saam met hom geneem.

Wat die samestelling van die volk Israel betref, moet in gedagte gehou word dat die volk vir 250 jaar lank in twee koninkryke verdeel was, naamlik die tienstammeryk van Israel in Samaria en die tweestammeryk van Juda in Jerusalem. Daar was verskeie migrasies van die noordelike na die suidelike ryk, met die gevolg dat Juda spoedig weer verteenwoordigend van al twaalf die stamme was (vgl. 2 Kron. 11:14-16; 15:9).

Gedurende die ballingskap het hulle verder verenig geraak, omdat Babilonië ook die voormalige Assirië verower en ingesluit het. Israel en Juda is saam in dieselfde gebied verdruk: “So sê die Here van die leërskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek. Maar hulle Verlosser is sterk, Here van die leërskare is sy Naam” (Jer. 50:33-34).

Wanneer Daniël tydens die ballingskap na Israel verwys, bedoel hy die verenigde volk wat uit twaalf stamme bestaan. Tydens en ná die Babiloniese ballingskap word daar net na een volk verwys wat as “Jode” én “Israeliete” beskryf is (Esra 6:8,16-17,21; Neh. 1:6 en 4:1). Daar word geen ruimte vir die teorie van die “tien verlore stamme van Israel” gelaat nie, en derhalwe ook nie vir die Brits-Israelse Beweging en die Israelvisie nie.

Outeurskap

Daniël was ‘n bekende historiese persoon wat uit ‘n koninklike familie gebore is (Dan, 1:3,6). Hy was fisies aantreklik en verstandelik baie intelligent (Dan. 1:4). Tydens sy gevangeneming was hy ‘n jong man gewees. Daniël is in ‘n besondere mate begenadig om die oppergesag en alwetendheid van God in die midde van ‘n heidense wêreld te openbaar. Dit is ook die rede waarom die boek Daniël in twee tale geskryf is, naamlik Hebreeus en Aramees. Hebreeus was die taal van Israel en Aramees die taal van die heidenwêreld van daardie tyd.

Vanaf hoofstuk 1:1 tot 2:4a, asook hoofstukke 8 tot 12, is in Hebreeus geskryf omdat dit oor die lotgevalle van die volk Israel handel. Die gedeelte vanaf hoofstuk 2:4b tot aan die einde van hoofstuk 7, is in Aramees geskryf omdat dit profesieë oor die heidennasies bevat. Dit is gepas dat die gedeelte oor die heidense koninkryke in hulle eie taal geskryf is. Wanneer die klem weer na dié koninkryke se invloed op Israel verskuif, word die teks in Hebreeus geskryf.

Ten spyte van die twee tale waarin die boek Daniël geskryf is, vorm dit ‘n integrale geheel. Die eerste ses hoofstukke is wél geskiedenis en die laaste ses hoofstukke profetiese visioene, maar tóg vul dit mekaar aan en kan daar in die eerste hoofstukke ook profetiese boodskappe gelees word. So bv. is die droomgesig van Daniël 2 ‘n beskrywing van opeenvolgende wêreldkoninkryke ná Nebukadnésar, en word dieselfde koninkryke in die laaste hoofstukke deur dierebeelde voorgestel.

Liberale teoloë het dikwels die outeurskap van Daniël in twyfel getrek, omdat hulle nie kon aanvaar dat die geskiedenis so akkuraat voorspel kon word nie. Vir ons is dit eintlik geen probleem nie, want ons weet dat dit nie Daniël self was wat sulke voorspellings kon maak nie, maar dat die Heilige Gees die ganse Skrif goddelik geïnspireer het (2 Pet. 1:20-21).

Doel van die boek

Met die skryf van die boek Daniël was daar die volgende duidelike doelstellings:

1.       Die boek dui vir elkeen wat dit lees, besonder uitdagende voorbeelde aan van wat ‘n ware, toegewyde lewe aan God beteken. Dit wys ons wat God gewillig is om te doen deur diegene wat heelhartig aan Hom toegewy is. Daniël het egter ‘n unieke en eenmalige rol vervul. Nie een van ons kan weer ‘n Daniël wees nie, maar ons kan en behoort die boodskap van Daniël in ons eie tyd toe te pas en uit te leef. Hiervoor is dit nodig om ‘n grondige kennis van sy boek te hê.

2.       Die boek verseker ons van God se voortgesette belang by sy volk Israel, en sy troue sorg oor hulle – selfs wanneer hulle gestraf word. Dit word in historiese gebeurtenisse beskryf, maar ook in profetiese beloftes oor Israel se uiteindelike herstel. Die belangrikste van hierdie beloftes is die koms van die Messias, asook Israel se volkome geestelike herstel wanneer die maat van hulle ongeregtighede vol sal wees en daar ‘n einde aan hulle sonde sal kom. Die Here troos sy volk te midde van hulle lyding, en doen daardeur ‘n oproep op mense om in die lig van toekomstige weldade nóú hulle saak met die Here reg te maak en in sy weë te wandel.

3.       Daniël is die belangrikste bron vir die interpretasie van die Nuwe Testamentiese Apokalips – Openbaring. Die boek verskaf baie inligting oor die opkoms van ‘n magtige heidense koninkryk in die eindtyd, asook die verskyning van dié wêreldryk se leier, wat Israel sal vervolg en homself op groot dinge beroem. Hy sal homself nie net bokant alle mense verhef nie, maar ook bokant God. Verder beskryf Daniël uit Israel se oogpunt die gebeurtenisse van die eindtyd binne die raamwerk van ‘n jaarweek, wat ‘n tydperk van sewe profetiese jare is. Hierdie week word in twee helftes verdeel, en dit vind direkte aansluiting by Openbaring se beskrywing van die sewe jaar lange verdrukking onder die bewind van die Antichris, wat net voor die wederkoms van Christus op aarde sal verloop.

Interpretasie

Hoe gaan ons te werk om Daniël se profesieë te verklaar? Die volgende riglyne en beginsels van uitleg moet gevolg word:

1.       Enige skrifgedeelte het net een primêre betekenis. Dit moet in die historiese situasie waarin die boek geskryf is, bepaal word. Met wie het die profeet gepraat en wat was sy boodskap aan daardie mense of volke? In die geval van Daniël was daar duidelike boodskappe aan die volk Israel in hulle eie taal. Hierbenewens was daar ook profetiese uitsprake oor heidense koninkryke en hulle leiers, asook dit wat die toekoms vir almal van ons inhou.

2.       Wanneer hierdie waarhede vasgestel en gekonstateer is, kan ons voortspruitend daaruit verskeie praktiese toepassings en boodskappe vir ons tyd aflei. Die lyn kan na ons situasie deurgetrek word deur sekere beginsels van God se handelswyse met mense aan te toon. ‘n Voorbeeld hiervan is ‘n waarskuwing aan Nebukadnésar om met sy sonde te breek (Dan. 4:27). Hy het dit nie gedoen nie, arrogant opgetree en is deur die Here van sy koningskap onthef (Dan. 4:29-31). Ná ‘n tyd het hy tot besinning en bekering gekom en God se oppergesag erken (Dan. 4:36-37). Hierdeur wil die Here ook goddelose leiers in ons tyd waarsku om nie minagtend teenoor die Here en sy Woord op te tree nie. Dit sal een of ander tyd bitter gevolge vir hulle meebring.

3.       Vervolgens kan daar uit die verband van die primêre waarheid in baie gevalle ook profetiese openbarings gelees word. Verhale wat vertel word, het bv. dikwels ‘n tipologiese heenwysing na persone of gebeurtenisse in die toekoms. So bv. is Antiochus Epifanes, die koning van die Siriese provinsie in die voormalige Griekse wêreldryk, ‘n tipe van die Antichris. Baie van sy optredes teenoor Israel is ‘n vooruitskouing na dit wat die eindtydse koning van die noorde sal doen (Dan. 11).

Hierdie drie riglyne is interafhanklik en moet almal ook in hierdie volgorde toegepas word. Sommige mense bly slegs by die primêre vertolking van die Skrif en eindig dan by ‘n stuk dooie dogmatiek of geskiedenis wat van weinig praktiese nut in die lewe is. Andere begin weer by die geestelike en profetiese toepassings, sonder om as ‘n eerste stap die Skrif behoorlik te bestudeer. Die gevaar is dat daar dan willekeurige en ongegronde afleidings gemaak kan word.

Bybelse profesieë, waarvan daar baie in Daniël is, moet letterlik verklaar word en nie deur vergeesteliking of allegorisering van hulle grondbetekenis beroof word nie. In sy gesaghebbende boek, Things to Come, gee Dwight Pentecost die volgende definisie van die letterlike metode van Skrifverklaring: “Die letterlike metode van interpretasie is daardie metode wat aan elke woord dieselfde betekenis toeskryf as wat dit in die gewone, alledaagse gebruik van die spreektaal, skryf- of denkwyse het. Dit word die grammaties-historiese metode genoem om die feit te beklemtoon dat betekenis deur beide die grammatiese konstruksie en die historiese verband waarin die woord gebruik is, bepaal word.” Wanneer ‘n woord ‘n logiese betekenis het in die verband waarin dit gebruik word, dan mag dit nie simbolies opgeneem en anders verklaar word nie: “When the plain sense of the word makes common sense, then seek no other sense.”

Die sterkste bewys vir die letterlike verklaring is die wyse waarop die Nuwe Testament van die Ou Testament gebruik maak. ‘n Mens kan maar net kyk na die Ou Testamentiese profesieë oor Christus wat in die Nuwe Testament vervul is, naamlik oor sy geboorte, sy lewe, sy werk en sy dood. Geen een van hierdie profesieë is anders as letterlik vervul nie. Die Ou Testament gee meer as 300 uitdruklike voorspellings aangaande die eerste koms van Christus, sodat dit vir elke Fariseër en skrifgeleerde duidelik moes wees wie Jesus is. Tóg het hulle die Here Jesus nie as Messias herken en aanvaar nie, maar die waarheid onderdruk en hulle eie mense mislei. Waarom het hulle dit gedoen?

Die ganse sisteem van die verdoeseling en versluiering van Bybelse profesieë deur middel van allegoriese interpretasie, is ‘n duidelike set van die Satan om mense te laat vergeet van die wederkoms van die Verlosser wat as Persoon van die hemel af sal kom om hier te regeer. Tydens Christus se eerste koms het Israel die voorspellings oor sy koms geïgnoreer en moes die sware gevolge daarvan dra. Hulle sou vir eeue lank geestelik verblinde voortvlugtendes onder die nasies wees omdat hulle die gunstige tyd toe God hulle deur die Messias besoek het, nie opgemerk het nie (Matt. 23:37-39; Luk. 19:41-44; 21:20-24).

In die boek Daniël is daar verskeie duidelike profesieë oor die koms van die Messias – selfs ‘n aftelling van 69 jaarweke vanaf Israel se herstel uit die Babiloniese ballingskap tot by die verwerping en kruisiging van die Messias. Die uiteindelike gevolg van hierdie onbesonne daad deur Israel sal die koms van die valse messias in die eindtyd wees, reg aan die einde van die tye van die nasies. Daniël sê: “Dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word” (Dan. 12:1). Vir diegene wat kan volhard en die valse messias se diktatuur oorleef, sal daar geestelike herstel wees wanneer die ware Messias kom.

Hierdie boodskap aan Israel kan ook op alle mense toegepas word: diegene wat die ware messias verwerp, sal in ‘n groot verdrukking beland waarin sommige wél gered sal word, maar die meeste sal in hulle sonde sterf. Daniël gee aan ons baie inligting oor hierdie komende tyd van die einde. As ons dit saam met Christus se profetiese rede en Johannes se boek, Openbaring, lees, sal dit vir ons duidelik wees dat ons aan die einde van die tye van die nasies is, en dat die geprofeteerde tyd van wêreldwye benoudheid enige oomblik kan aanbreek. Mense se verhouding met die God van die hemel sal bepaal of hulle die seën van die Messias se toekomstige koninkryk sal beërf, en of hulle weens ongeloof aan die skrikbewind van die valse messias uitgelewer sal word.

 

Daniël 1. Die Tye van die Nasies

Die gebeurtenisse in Daniël 1 is die begin van Israel se Babiloniese ballingskap en derhalwe ‘n belangrike keerpunt in die geskiedenis van Israel as die onafhanklike verbondsvolk van God in hulle eie land met Jerusalem as hulle hoofstad. Hier begin die tye van die nie-Joodse nasies, waarin heidense koninkryke oor Israel heers, heidense kulturele en godsdienstige gebruike op hulle afgedwing word, en waarin tyd volgens nie-Joodse kalenders, in terme van die regeringstermyne van heidense konings, bereken word.

Proff. Walvoord en Zuck (Bible Knowledge Commentary) sê: “Die tye van die nasies het met Nebukadnésar se inname van Jerusalem in 605 v.C. begin en sal voortduur totdat die Messias terugkeer. Christus sal dan die nasies onderwerp, die land Israel van heidense oorheersing bevry, die volk Israel geestelik herstel deur ‘n nuwe verbond met hulle te sluit en daardeur die seëninge van sy millennium-koninkryk aan hulle verleen.”

Ná die val van Jerusalem en die beëindiging van Israel se koninklike dinastie sou die koningshuis van Dawid nie meer die manifestasie van God se koninkryk op aarde wees nie en sou heidense konings die septer in die Midde-Ooste én die res van die wêreld swaai. Selfs ná Israel se herstel uit die Babiloniese ballingskap was hulle aan die oorhoofse gesag van heidense wêreldryke onderworpe, terwyl die tye van die nasies sy verdere loop geneem het. In die hele Nuwe Testamentiese tydperk is Jerusalem deur die nasies vertrap (Luk. 21:24).

God se koninkryk sal eers weer as ‘n sigbare werklikheid op aarde gesien kan word wanneer Israel en Jerusalem ten volle herstel is en Jesus Christus op die troon van Dawid regeer. Voor die geboorte van Jesus het die engel aan Maria gesê dat haar Seun “groot sal wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32). Tydens sy eerste koms was Jesus die lydende Messias wat sy lewe vir die sondes van die hele wêreld afgelê het, maar met sy wederkoms sal Hy as Koning kom wat ook die vervalle troon van Dawid sal herstel (Hand. 15:16-17).

Alle pogings deur koninkryksteoloë om God se koninkryk sonder ‘n ten volle herstelde Israel en Jerusalem sigbaar op aarde te manifesteer, is misleidend en onbybels, en kan net deur die Antichris gebruik word om ‘n nuwe heidense (humanistiese) koninkryk op aarde te vestig waarin Israel glad nie die leidende rol sal speel nie. Die ware kinders van God is steeds vreemdelinge en bywoners in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê. Die doel met die evangelie is om mense uit “die teenwoordige bose wêreld” te red, en nie om van die hele wêreld ‘n Christelike wêreld te maak en sodoende sigbare gestalte aan God se koninkryk te probeer gee nie. Dit sal eers gebeur wanneer die Koning gekom en die troon van Dawid in Jerusalem herstel is.

Ons leef in ‘n baie belangrike tyd van die wêreldgeskiedenis, waarin Jerusalem en Israel toenemend in afwagting op die koms van die Koning herstel word. Jerusalem is in Junie 1967 deur die herstelde Israel uit Jordaniese beheer bevry en in Augustus 1980 tot hulle ewige en onverdeelbare hoofstad verklaar. Sedert Augustus 1980 het Jerusalem vir die eerste keer weer die status geniet wat dit voor die Babiloniese ballingskap gehad het – die hoofstad van ‘n onafhanklike Israel, maar sonder ‘n koning. Sedert die Babiloniese ballingskap was daar nooit weer ‘n opvolger van Dawid op die koninklike troon in Jerusalem nie en was die stad en land nie onafhanklik nie. Tydens Jesus se eerste koms was Jerusalem onder die beheer van die Romeine.

Ons nader nou die oomblik wanneer Dawid se troon herstel sal word en Jerusalem nog veel meer as in die glorieryke dae van Dawid en Salomo die middelpunt van wêreldgebeure sal wees. Dit wat voor die Ou Testamentiese ballingskap in Israel verkeerd gegaan het, moet eers reggestel word. Die volk moet hulle bekeer deur die Messias aan te neem sodat die Here aan hulle nuwe harte kan gee (Eseg. 36:24-28). Omdat Israel steeds weier om die Here Jesus as Messias te erken, gaan die gedeeltelik herstelde Jerusalem in die komende verdrukking weer aan heidense beheer oorgegee word. Dit sal soortgelyk aan die Babiloniese ballingskap van Israel wees – net baie korter maar steeds baie erg. Jesus het Israel gewaarsku dat hulle ‘n valse messias sou aanvaar (Joh. 5:43), dat hierdie misleier die tempel in Jerusalem sal ontheilig (Matt. 24:15), dat die stad gedeeltelik deur sy vyande ingeneem en byna deur hulle verwoes sal word (Sag. 14:2). Baie Jode sal weer eens vir oorlewing uit die stad moet vlug, dan sal Jesus as Messias skielik op die Olyfberg neerdaal, tot hulle redding kom, die vyandelike magte verdelg en sy koninkryk in Jerusalem vestig (Sag. 14:4-9).

Met die oog op hierdie onbetwisbare Bybelse feite oor komende oordele in die verdrukking, moet Israel én die nasies maar weer in die Bybel gaan kyk wat die gevolge van die verwerping van die lewende God en sy Seun is. Die komende verdrukking sal nie net oor ongelowige Israel kom nie, maar ook oor al die ewe ongelowige nasies wat nie vir Jesus Christus as Verlosser en Here wil aanneem en dien nie. Al die heidense koninkryke het uiteindelik weens hulle magsbeheptheid, korrupsie en morele verrotting tot niet gegaan en is deur ander bose koninkryke onderwerp. Hierdie kringloop van geweld en toenemende goddeloosheid sal eers beëindig word wanneer Christus terugkom en sy vyande se mag finaal verbreek (Ps. 2:1-12; Dan. 2:44). Hy sal dan as die Koning van Geregtigheid van Dawid se troon af uit Jerusalem oor die hele wêreld regeer. Daniël se boodskap is dus van besondere betekenis vir die tyd waarin ons leef.

Begin van die ballingskap

“In die derde jaar van die regering van Jojakim, die koning van Juda, het Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër. En die Here het Jojakim, die koning van Juda, in sy hand gegee, met ‘n gedeelte van die voorwerpe van die huis van God, en hy het hulle na die land Sinear gebring in die huis van sy god, en die voorwerpe het hy in die skathuis van sy god gebring” (Dan. 1:1-2). Deur hierdie stap word die oorwinning van Babel se gode oor die God van Juda gesimboliseer. Dit was ‘n groot vergissing, want die Here is oppermagtig maar het sy volk as gevolg van hulle geestelike afvalligheid aan die heidene oorgegee. Die hoofgod van die Babiloniërs was Baäl, wat ook Mardoek genoem is.

Nebukadnésar was in hierdie jaar (605 v.C.) op ‘n militêre veroweringstog om die Siriërs en Egiptenare se mag te verbreek en ook die Joodse gebiede onder die gesag van Babel te bring. Toe hy van sy pa, Nebopolasser, se dood verneem het, het hy na Babilon teruggekeer om as die nuwe koning aangestel te word. Op sy terugreis het hy ook vir Daniël en sy drie vriende as ballinge weggevoer.

Volgens Daniël 1:3-6 het Nebukadnésar “aan Aspenas, die owerste van sy hofdienaars, bevel gegee om uit die kinders van Israel, uit die koninklike geslag sowel as uit die adelikes, te bring: jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien; en om hulle die skrif en taal van die Chaldeërs te leer... en onder hulle was uit die kinders van Juda: Daniël, Hananja, Misael en Asarja.” Die ander ballinge se name word nie genoem nie omdat hulle nie so ‘n belangrike rol in Babilon sou vervul nie.

Wat Daniël en sy drie vriende betref, is alle pogings aangewend om hulle identiteit heeltemal te verander – hulle moes van hulle volksverband, godsdiens, taal en kultuur losgemaak word, en selfs ook van hulle eetgewoontes, sodat hulle in alle opsigte by die Babiloniese wêreldkultuur ingelyf kon word. As ‘n vertrekpunt vir die proses van assimilasie in die Babiloniese samelewing het hulle nuwe name gekry, omdat hulle ou name hulle aan die God van Israel verbind het.

Die agtervoegsel “ja” (soos in Hananja) is ‘n verkorting van “Jahweh.” “El” (soos in Misael) is ook ‘n Hebreeuse naam vir God. “Bet-El” is die Huis van God. Daniël beteken “God is my Regter,” en hy het die nuwe naam Belsasar gekry (“Dame, beskerm die koning”). Hananja beteken “God was genadig” en hy het Sadrag geword (“Ek is bevrees,” bedoelende vir ‘n ander god). Misael beteken “Wie is soos God?” en sy nuwe naam was Mesag (“Ek is verneder,” bedoelende voor ‘n ander god). Asarja beteken “God het my gehelp” en sy naam is verander na Abednego (Dienskneg van Nego). Dit was ‘n ander vorm die Babiloniese god Nebo se naam.

Aspenas, die owerste oor Nebukadnésar se hofdienaars, was vasbeslote om enige herinnering van of verwysing na die God van Israel in Babilon se paleis uit te wis. Dit was die rede waarom hierdie vier manne name moes kry wat hulle onderworpenheid aan Babel se gode aangedui het. Verder moes die ballinge so gou as moontlik Aramees aanleer en net in dié taal kommunikeer. Hulle het dit ook gedoen.

Wat hierdie vier jongmanne egter nie gedoen het nie, was om die koning se dieet te volg, wat ook afgodsoffers en drank ingesluit het: “En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy by die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie” (Dan. 1:8). Hierdie versoek is toegestaan, maar die hofdienaar was bekommerd dat Daniël en sy vriende maer en swak sou word as gevolg van ondervoeding. Daniël het hom gerusgestel en gesê dat hy hulle tien dae lank op die proef kon stel. Ná die tien dae het die vier manne beter daar uitgesien as die ander jongmanne wat die koning se kos geëet het. Op grond daarvan is hulle vir die res van hulle tyd van opleiding toegelaat om met hulle eie dieet van groente voort te gaan. Die opleiding het drie jaar lank geduur (Dan. 1:5).

Die vier jongmanne wat vir verantwoordelike posisies deur Nebukadnésar opgelei is, is in werklikheid deur God vir hulle toekomstige rolle voorberei. Ons lees in Daniël 1 van vers 17 af: “En hierdie vier jong seuns – God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome. En aan die einde van die dae wat die koning vasgestel het om hulle in te bring, het die owerste van die hofdienaars hulle voor Nebukadnésar gebring. En die koning het met hulle gespreek, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Hananja, Misael en Asarja nie. So het hulle dan voor die koning gedien. En in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het” (Dan. 1:17-20).

Aan die einde van die drie jaar het Daniël en sy vriende insig en kennis van die wetenskappe gehad wat al die geleerdes in Babel in die skadu gestel het. Daar was ook baie besweerders en waarsêers in Babilon wat onder andere met die behulp van astrologie die toekoms probeer voorspel het. Israel is verbied om hierdie soort okkultiese praktyke te beoefen: “Daar mag niemand by jou gevind word... wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here ‘n gruwel” (Deut. 18:10-12). Daniël en sy vriende het nie okkultiese aktiwiteite beoefen nie, maar as gevolg van die gawe wat Daniël gehad het om gesigte en drome te vertolk, kon hy akkurate voorspellings oor die toekoms doen. Babilon se waarsêers kon gladnie op hierdie terrein met hom kompeteer nie.

Nebukadnésar het vir die res van sy lang termyn as koning vir inligting oor die toekoms op Daniël se vertolking van drome en visioene staatgemaak. In hierdie opsig het Daniël profeties Israel se toekomstige rol as God se spreekbuis teenoor die heidene vervul. Gedurende die millennium sal Israel die lig van die nasies wees en die weë van die Here aan hulle verkondig. Die Here het gesê: “Julle sal vir my ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees” (Deut. 19:6). Hulle sal as ‘n koninklike priesterdom die spesiale getuies van die Messias teenoor die nie-Joodse wêreld wees. Dit sal in die toekomstige koninkryksbedeling van die vrederyk wees, m.a.w. ná die kerkbedeling, die wederkoms van die Messias en die nasionale bekering van die oorblyfsel van Israel. Daniël het profeties só ‘n bediening in Babilon vervul.

Die Here het hierdie jongmanne in Babel beloon omdat hulle getrou aan Hom gebly het, hulleself nie met afgodediens en immorele praktyke besoedel het nie, maar die wet van die Here stiptelik onderhou het. Hulle het soos ligte in ‘n donker wêreld geskyn en ook hulle onderdrukkers ver oorleef. Die Babiloniese ryk het in 539 v.C. tot ‘n val gekom toe dit deur die Perse onder die leiding van Kores verower is. Daniël het tot ten minste drie jaar ná Kores se oorwinning nog geleef, m.a.w. in 536 v.C. (Dan. 10:1). Dit beteken dat hy minstens 85 jaar oud was indien hy 16 jaar was toe hy in 605 v.C. deur Nebukadnésar weggevoer is.

Die verhaal van Daniël se beginselvastheid en vinnige opgang in die paleis van ‘n heidense koning is een van die besondere gedeeltes in die Bybel. Hierin word daar vir ons ‘n tydlose waarheid uitgebeeld, naamlik dat God net deur ‘n gehoorsame en afgesonderde lewe gedien kan word – ‘n lewe wat as anders in die wêreld uitgeken kan word omdat dit aan God toegewy is. Die stelsels van hierdie wêreld is, soos in Babilon, heidense en afgodiese stelsels waarin geen kind van God hom- of haarself tuis kan maak nie. Die stelsels van die heidense wêreld word vir oorname deur die Antichris voorberei, soos later in Daniël gesien sal word.

Watter rol het ‘n Christen hier te speel? Hy moet die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde wees, en nooit enige kompromie met die wêreld maak nie. “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Rom. 12:2). Ons moet gedurig onder die leiding van die Heilige Gees vernuwe word na die beeld Christus, sodat Hy volle gestalte in ons kan verkry. As ons rein lewens lei wat nie deur die wêreld en sy gebruike besoedel is nie, sal die Here ons ook gebruik om sy Woord en sy wil aan die wêreld bekend te maak. Ons sal, soos Daniël, ‘n besondere mate van geestelike wysheid en insig hê wat die wysheid van die wêreld ver sal oortref.

Om te sterwe vir die wêreld beteken egter nie dat ons niks daarmee te doen mag hê nie. Ons is in die wêreld maar nie van die wêreld nie (Joh. 17:11,14,16). Daniël het ‘n hoë posisie in Babilon beklee, maar nogtans nie deel van die Babiloniese stelsel geword nie. Christene werk dikwels vir sekulêre, goddelose organisasies en regerings, maar hulle moet juis hierdie geleentheid gebruik om slegs volgens die beginsels van Christus se koninkryk op te tree. In sy boek, Soos Christus, sê dr. Andrew Murray die volgende hieroor:

“Die ware volgeling van Jesus moet albei hierdie beginsels kombineer. As hy nie duidelik wys dat hy nie van die wêreld is terwyl hy die groter seën van ‘n hemelse lewe voorstaan nie, hoe sal hy die wêreld van sonde oortuig en aan hulle bewys dat daar ‘n beter lewe is, of aan hulle leer om te begeer wat hulle nog nie het nie? Opregtheid, heiligheid en afskeiding van die gees van die wêreld moet die Christen kenmerk. Sy hemelse gees moet hom onderskei as iemand wat aan ‘n ander koninkryk as dié van die wêreld behoort.

“Nogtans moet hy leef as iemand wat ‘in die wêreld’ is. Hy is uitdruklik deur God hier geplaas tussen hulle wat in die wêreld is, om hulle harte te wen, invloed oor hulle te verkry en aan hulle die Gees te kommunikeer wat in die gelowiges is. Die Christen moet voortdurend planne maak hoe hy hierdie doel ten beste kan bereik. Hy sal nie sukses behaal deur toe te gee, kompromie te maak en sodoende die ernstige werklikhede van die Christelike geloof te versag of af te water nie. Nee, hy sal slegs sukses behaal deur in die voetspore te volg van Hom wat alleen vir ons kan leer hoe om in die wêreld te wees en nogtans nie van die wêreld nie. ‘n Christen kan slegs ‘n seën vir die wêreld wees as hy ‘n lewe van diensbaarheid en opofferende liefde lei en daardeur duidelik bely dat die eer van die Here die hoogste doel van sy bestaan is. Vervul met die Heilige Gees, moet hy mense in direkte verbinding met die warmte en liefde van ‘n hemelse lewe bring” (einde van aanhaling).

Daniël het juis dít gedoen, daarom  was hy as ‘n jongman reeds ‘n kragtige instrument in die Here se hand. Sy bediening het altyd in ‘n geestelik vyandige omgewing plaasgevind, maar dit is juis in die donkerte van ongeloof, bygeloof en misleiding deur valse profete waar die lig van God se Woord op sy helderste skyn. Daniël was bereid om die verdrukking en verwerping te verduur wat deur sy getuienis veroorsaak is, omdat hy die einddoel van God se raadsplan met die mens begryp het. Vir die gelowiges wag daar ewige heerlikheid en vir die ongelowiges die ewige verderf. In die laaste hoofstuk van sy boek sê Daniël: “Baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik” (Dan. 12:2). Elkeen van ons moet ‘n duidelike keuse maak – vír die Here en sy geregtigheid, of vír ‘n verdorwe wêreld wat in die mag van die Bose lê.

Daar kan nie ‘n versoeningsbrug tussen die koninkryk van die lig en die koninkryk van die duisternis gebou word nie, omdat hulle vir altyd vyandig teenoor mekaar is. Daniël het sy posisie in Babilon gebruik om aan die magtigste en mees geleerde heidene te toon dat die krag en wysheid van God onvergelyklik en onoortreflik is. Slegs in Hom is daar ware lewe en ‘n hoopvolle toekoms.

 

Daniël 2. Die Profetiese Geskiedenis van die Nasies

Van Daniël 2:4(b) af tot aan die einde van Hoofstuk 7 is die oorspronklike teks in die destydse wêreldtaal, Aramees, geskryf en nie in Hebreeus soos die res van die boek nie. Die uitdruklike doel hiermee was omdat dié gedeelte oor die profetiese toekoms van die nie-Joodse wêreldryke handel. Dit het die einde van Israel se koninkryk tydens die aanvang van die tye van die nasies meegebring, asook die feit dat God se koninkryk in Nuwe Testamentiese tye onder alle nasies net in ‘n verborge vorm in gelowiges se harte funksioneer – dit is nie van hierdie wêreld nie. Die politieke, kulturele en geestelike oorheersing van die wêreld deur heidense koninkryke sou voortduur totdat hulle in die eindtyd deur ‘n ingryping van God tydens die wederkoms van Christus vernietig en vervang sal word. Dan sal Israel se koninkryk ook in groter heerlikheid as die verlede herstel word, en al die heiliges uit alle nasies sal saam met Christus in sy geopenbaarde koninkryk op aarde regeer (Op. 5:9-10).

Die Here het die toekoms van die nasies deur ‘n droom aan Nebukadnésar geopenbaar, maar hy kon die droom nie verstaan of verklaar nie. Hierdie aardse maghebber was duidelik in die duister oor dié dinge wat werklik belangrik is, en was gevolglik onrustig en slapeloos oor die droom. Die vrede en wysheid van God het heeltemal in sy lewe ontbreek. In sy onkunde het hy homself tot die wyse manne van Babel gewend om ‘n antwoord oor die betekenis van sy droom te kry – dit was die sterrekykers, besweerders en towenaars van die Chaldeërs. As ‘n toets van hulle bekwaamheid om verborge dinge te kan verstaan, moes hulle eers aan die koning vertel wat hy gedroom het, en daarna die betekenis daarvan bekend maak. Groot loon is aan die waarsêers gebied indien hulle dié droom en sy betekenis bekend kon maak, maar summiere doodstraf vir almal van hulle indien hulle dit nie kon doen nie.

Nie een van hulle kon dit doen nie en die koning het hulle oor hul onvermoë verkwalik. Hulle wou eers inligting oor die droom hê voordat hulle dit verklaar, maar die koning het geweier en die oordeel oor hulle herbevestig. Dit sou ‘n groot terugslag vir die geloofwaardigheid van hierdie manne van aansien in die samelewing wees, omdat die hele Babiloniese godsdiensstelsel rondom hulle okkultiese praktyke en esoteriese kennis gebou is. Dit het sterrewiggelary en waarsêery ingesluit, asook die aanbidding van verskeie afgode, waarvan die belangrikste die songod, Baäl, asook die hemelgodin en haar seun was.

Hierdie valse godsdiens van mistiese spiritualiteit, towery, toekomsvoorspelling, die aanbidding van die god van hierdie wêreld, asook die verering van ‘n vrouefiguur en haar kind, het deur die eeue heen sy merk op die geskiedenis van die nasies gemaak. Die Babiloniese godsdiensstelsel wat in verborgenheid onder die heidennasies gegaan en in verskillende vorms voortgeleef het, sal volgens Openbaring 17 nog tot in die komende verdrukking voortbestaan en sterk erkenning by die Antichris kry voordat dit finaal vernietig sal word. Johannes noem haar: “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Op. 17:5). Sy sal weer haar posisie as ‘n moederorganisasie vir al die afvalliges terugkry.

Wat in Nebukadnésar se paleis gebeur het, was ‘n geloofwaardigheidstoets vir die amptelik erkende godsdiensleiers van sy magtige wêreldryk. Die Here het hierdie geleentheid gebruik om hulle onvermoë en valsheid aan die koning te demonstreer, en ook aan hom te wys dat daar net een openbaarder van geheimenisse is, naamlik die ware God van die hemel en aarde. In hierdie situasie is die enigste ware godsdiens teenoor die valse godsdienste van die wêreld gestel. Die konfrontasie tussen hulle was onvermydelik, omdat hulle dwaasheid en onvermoë in die lig van God se teenwoordigheid geopenbaar en bestraf moes word.

Daniël was sonder sy wete ook deel van die koning se veroordeling van al die wyse manne in sy koninkryk indien hulle nie aan sy eis oor die droom kon voldoen nie. Die waarsêers het gesê dat geen mens hierdie inligting te kenne kon gee nie. “Die koning het toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring. Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle ook Daniël en sy metgeselle gesoek om gedood te word... Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee. Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hananja, Misael en Asarja, sy metgeselle, die saak bekend, en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle en die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie. Daarop is in ‘n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar” (Dan. 2:12-19).

Hierop het Daniël eers die Here geprys: “Toe het Daniël die God van die hemel geloof... en gesê: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne... Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom. U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen, en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak” (Dan. 2:19-23).

Hierna is Daniël voor die koning gebring en het aan hom gesê: “Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie. Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur” (Dan. 2:27-28).

In sy tyd van toetsing het Daniël kalm gebly en saam met vriende die aangesig van die Here in gebed oor die koning se droom gesoek. Hulle het genade van die Here afgebid om hierdie geheimenis aan hulle bekend te maak. Die Here reageer altyd uit genade op ons behoeftes, wat dit ook al mag wees. Ons moet net ons onvermoë teenoor Hom erken om self ons probleme op te los, en dan om sý wysheid en die grootheid van sy goedertierenheid bid. Ons gebedsversoeke moet altyd op die eer van sy Naam gerig wees.

Wanneer die Here ons begenadig het met krag en wysheid uit die hoogte, moet ons vreesloos vir Hom ‘n standpunt in hierdie goddelose wêreld inneem. Daniël se toewyding aan die Here het nie net in sy binnekamer plaasgevind nie, maar hy het dit ook in die openbaar bekend gemaak. Wanneer hy dit gedoen het, was hy versigtig om aan die Here al die eer te gee. Daniël is aan die koning voorgestel as ‘n persoon wat die droom kon uitlê, maar hy het dadelik volle erkenning aan die Here as die openbaarder van geheimenisse gegee. Ons moet ook daarteen waak om onsself te verhef en op ‘n troontjie te plaas. Gee aan die Here die eer vir die groot dinge wat Hy vir jou gedoen het – jy is net ‘n dienskneg en gesant van Hom.

Daniël het die droom só verduidelik: “U, o koning, het ‘n gesig gehad – kyk, daar was ‘n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, en sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het. Dit is die droom” (Dan. 2:31-36).

Die uitleg van die droom is só deur Daniël verduidelik: “U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag, en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het – u is die hoof van goud. En ná u sal daar ‘n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ‘n ander, ‘n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis. En dat die voete en tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was – dit sal ‘n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is – ‘n gedeelte van die koninkryk sal hard en ‘n gedeelte sal bros wees... Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan – net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar” (Dan. 2:37-45).

Daniël se uitleg het ‘n opeenvolging van heidense ryke aangedui wat as magtige koninkryke oor die destyds bekende wêreld, en dus ook oor Israel, sou regeer. Die Babiloniese ryk was die kop van goud. Die Here het Nebukadnésar aangestel sodat deur hom uitvoering aan sy raadsplan vir die nasies gegee kon word. Alle mense is aan sy gesag onderwerp, selfs ook die diere en die voëls. Die Babiloniese ryk het van 626 tot 539 v.C. regeer.

Die tweede deel van die beeld was die bors en arms van silwer. Dit het op die ryk van die Meders en die Perse gedui (die twee arms van die beeld) wat die Babiloniërs in 539 v.C. oorwin en onderwerp het. Hoewel die Medo-Persiese ryk meer as 200 jaar lank regeer het, van 539 tot 330 v.C., wat veel langer as die Babiloniese ryk se 87 jaar was, was dit minderwaardig teenoor die Babiloniese ryk, soos wat silwer minder as goud werd is.

Die buik en lendene van koper stel die derde koninkryk voor, naamlik die Griekse ryk. Alexander die Grote het die Medo-Persiese ryk in 330 v.C. verslaan en daarna hulle hele gebied beheer. Hy het die Griekse ryk verder oos tot in Indië uitgebrei.

Die bene van yster stel die Romeinse ryk voor. Hulle het die Griekse ryk in 63 v.C. verower. Hoewel die Romeinse ryk in twee dele verdeel is, soos die twee bene van die beeld, en uiteindelik in ‘n mengsel van yster en klei sal eindig, was dit nogtans een ryk. Hierdie ryk is deur sy groot krag gekenmerk, soos wat yster sterker as brons, silwer en goud is. Die Romeinse ryk het hard en genadeloos toegeslaan en al die lande wat deel van die vorige drie ryke was, by hulle ryk ingelyf. Met verloop van tyd het die Romeinse ryk egter toenemend verdeeld begin raak, soos yster en klei wat nie kan meng nie. In 476 n.C. het dit as ‘n politieke eenheid verbrokkel.

Die Romeinse ryk is egter nooit deur ‘n ander wêreldryk vervang nie, en ten spyte van sy politieke verbrokkeling het dit as twee invloedryke godsdienstige en kulturele organisasies voortbestaan – een in die weste en een in die ooste. Sodoende het die twee bene van die beeld in die oostelike en westelike dele van die Romeinse ryk hulle invloed laat geld. Die westelike deel van die Romeinse ryk wat uit Rome beheer is, was ‘n belangrike groeipunt vir die Westerse beskawing van die eerste wêreld. Wes-Europese kulture, die Romeinse reg en die Christelike geloof (Katolisisme én Protestantisme) het hiervandaan verder versprei – ook na ander wêrelddele wat uit Wes-Europa se kolonisasie van nuwe gebiede ontstaan het.

Die Oostelike deel van die Romeinse ryk wat uit Konstantinopel beheer is, het ook verder uitgebrei tot in Rusland. Hiermee saam het die invloed van die Grieks-Ortodokse Kerk gegaan, wat vir die vestiging van die latere Russies-Ortodokse Kerk verantwoordelik was. Sodoende het Oos-Europa ‘n groeipunt vir die tweede wêreld geword, wat later deur kommunisme oorheers is.

Met die ontdekking en kolonisering van die derde wêreld het die wêreld mettertyd in drie breë groeperings verdeeld geraak. Die strategie van die nuwe wêreldorde is egter om die wêreld weer te verenig en onder die gesag van ‘n enkele, VN-gebaseerde regering te plaas. Sodoende sal die laaste wêreldryk voor die wederkoms van Christus sy beslag kry.

Uit die oogpunt van die beeld wat Nebukadnésar gesien het, sal die gebied van die ou Romeinse ryk die kern van die laaste wêreldryk wees. Daar moet in gedagte gehou word dat die Romeinse ryk ‘n Mediterreense ryk was wat gedeeltes van Wes-Europa, Oos-Europa, die Midde-Ooste én dele van Noord-Afrika ingesluit het. Die val van die ystergordyn wat Wes- en Oos-Europa van mekaar geskei het, was ‘n belangrike verwikkeling in die herlewing van die Romeinse ryk. Nou moet hulle nog net lande uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika ook by die Europese Gemeenskap betrek.

Die tien tone van die beeld stel die eindtydse, herstelde Romeinse ryk voor. Hierdie alliansie sal polities, kultureel, godsdienstig en taalkundig erg verdeeld wees, soos yster en klei wat nie kan meng nie. Nogtans sal hulle ‘n bondgenootskap van lande vorm wat verteenwoordigend van al vier die vorige wêreldryke is. Die Midde-Ooste is die gemeenskaplike gebied wat deel van al vier die vorige ryke was, daarom sal die herstelde Romeinse ryk waarskynlik ook uit die Midde-Ooste beheer word. Die Siriese provinsie van die Romeinse ryk (die huidige Libanon, Sirië, Irak en Koeweit) was die hartland van die ou Babiloniese ryk en het ook ‘n belangrike deel van die Medo-Persiese en Griekse ryke gevorm. Volgens verdere profesieë in Daniël sal die eindtydse valse messias hier na vore tree en uiteindelik mag oor die hele wêreld verkry.

‘n Duidelike beskrywing word oor die vernietiging van die beeld gegee. ‘n Klip raak sonder toedoen van mensehande los, tref die beeld aan sy tone en vergruis die hele beeld. Wanneer die koninkryke van die nasies finaal vernietig word, sal dit nie deur menslike toedoen geskied nie. Die rots wat neerdaal en dit tref, dui op die wederkoms van Christus, wat ook Israel se Messias is. Hy word dikwels in die Bybel met ‘n rots vergelyk (Ps. 118:22; Jes. 8:14; 1 Pet. 2:6-8). Hierdie rots sal groot word en die hele aarde vul. Nadat Christus die aardse koninkryke verbrysel het, sal Hy sy ewige koninkryk in hulle plek vestig. Dit sal die vervulling van Openbaring 11:15 wees: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.”

Die feit dat die hele beeld verbrysel sal word wanneer die rots die tone daarvan tref, is ‘n duidelike bewys daarvan dat die eindtydse wêreldregering nie net ‘n herlewing van die Romeinse ryk sal wees nie, maar ook ‘n herlewing van die Babiloniese, Medo-Persiese en Griekse wêreldryke. Uit ‘n verdere studie van Daniël sal dit duidelik word dat die komende wêreldregering nie uit Rome beheer sal word nie, maar uit die Midde-Ooste, uit die gebied wat in die Romeinse ryk as die Siriese provinsie bekend gestaan het. Dit is die hartland van die ou Babiloniese ryk, en was ook ‘n belangrike deel van die Medo-Persiese en Griekse ryke. Die Romeinse ryk moet dus as die erfgenaam en opvolger van die vorige, goddelose ryke gesien word, daarom sal die hele beeld val en tot stof vermaal word wanneer sy voete getref word.

Nebukadnésar het in sy droom die toekoms van vier opeenvolgende wêreldryke gesien, wat al vier in die eindtydse wêreldryk van die Antichris sal herleef. ‘n Alliansie van tien konings sal onder die oorhoofse beheer van die Antichris aan die bewind wees wanneer die Here sal ingryp om hulle gesag en mag finaal te beëindig: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Dan. 2:44).

Die fout moes dus nie begaan word om slegs ‘n Ou Testamentiese interpretasie aan die betekenis van hierdie beeld te koppel nie. Die beeld verteenwoordig die totale tydperk van die tye van die nasies totdat Israel se koninkryk weer deur die Messias herstel sal word. Daniël het dit duidelik gestel dat die God van die hemel deur die droom aan Nebukadnésar getoon het wat aan die einde van die dae sal gebeur (Dan. 2:28). Die feit dat Israel die afgelope byna tweeduisend jaar in verstrooiing was en Jerusalem deur die nasies vertrap is (Luk. 21:24), is ‘n bewys daarvan dat die tyd van die heidense koninkryke nog nie verby is nie.

Jerusalem word sedert 1980 as die herstelde Israel se hoofstad erken, en dit het ons op die drumpel van die beëindiging van die tye van die nasies gebring. Jerusalem is nog nie volkome herstel nie, omdat die troon van Dawid steeds vervalle is en die Koning wat van hierdie troon af moet regeer, nog nie gekom het nie. Hy sal egter spoedig kom, en dan sal sy rotskoninkryk die koninkryke van die nasies verbrysel en self in hulle plek regeer. Die Priester-Koning wat vir die troon van Dawid bestem is, leef vir ewig en sal ‘n regering van geregtigheid instel sodat al die nasies onder sy bewind in vrede kan leef.

Ons sien reikhalsend daarna uit dat die Here in die geskiedenis van die mensdom sal ingryp en ‘n einde aan die goddeloosheid en sonde sal bring waaraan miljoene mense blootgestel word. Uit die profesieë in Daniël weet ons dat die korrupte strukture van menslike regering in die ontluikende nuwe wêreldorde tot sy groot eindtydse manifestasie opgebou sal word en dat die mens van sonde, die valse messias, volle beheer daaroor sal verkry. Hierdie wêreldryk sal egter van korte duur wees omdat die openbaring van God se koninkryk die einde daarvan sal beteken.

Groot eer het vir Daniël te beurt geval nadat hy die koning se droom beskryf en verklaar het. Hy is as heerser oor die provinsie Babel aangestel, en ook as owerste oor die wyse manne wie se lewens hy gespaar het. Sy drie vriende, wat in Babilonië Sadrag, Mesag en Abednego genoem is, het ook senior bestuursposte gekry. Daniël het uit die koning se paleis regeer. Só het die Here ook die getroue Israeliete in hulle ballingskap beskerm.

 

Daniël 3. Verpligte Afgodediens in Babilonië

Koning Nebukadnésar het ‘n geweldige groot beeld van 90 voet hoog en 9 voet breed (60 by 6 el) laat maak – omtrent so hoog soos ‘n moderne agtverdiepinggebou – en dit in die dal Dura in die provinsie Babel laat oprig. Die beeld was van goud, of ten minste met goudbeslag bo-oor. Nebukadnésar het uit Babilon regeer, wat teenaan die Eufraatrivier in die huidige Irak is. Argeoloë het ‘n groot basis van bakstene omtrent tien kilometer suidoos van Babilon ontdek, waarop die beeld waarskynlik opgerig was. Dit moes ‘n baie indrukwekkende beeld gewees het wat hoog bokant die omringende vlakte uitgetroon het.

Nebukadnésar is ongetwyfeld deur sy droom van die groot beeld geïnspireer om hierdie beeld te laat maak. Sy doel hiermee was eerstens om homself te verheerlik en sy oppergesag in die hele wêreld op ‘n dramatiese manier te demonstreer. Tweedens wou hy sy koninkryk verewig sodat dit nooit deur ander koninkryke verower en vervang sou word nie. Dit is waarom hy die hele beeld van goud laat maak het, en nie net die kop soos die beeld in sy droom nie. Derdens wou hy die Babiloniese godsdiens op alle volke afdwing en daarvan ‘n wêreldgodsdiens maak.

Afgevaardigdes van al die volke uit sy ryksgebied het ‘n byeenkoms in die dal Dura bygewoon, waar hulle verplig was om die beeld te aanbid. By hierdie geleentheid het die goewerneurs, raadsmanne, skatmeesters, regters en hoofamptenare van sy koninkryk, asook die bestuurders van die provinsies, uitgeroep: “Julle word aangesê, o volke, nasies en tale, sodra julle die geluid hoor van die horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat Nebukadnésar opgerig het. En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word” (Dan. 3:4-6).

Al die verskillende amptenare wat rondom die beeld saamgetrek is, en wat ook gebruik is om die aanbidding daarvan aan te kondig, het die doel gedien om die Babiloniese ryk intern te verenig. Hierdie eenheid is ook op die onderhorige volke afgedwing sodat almal se lojaliteit verseker kon word. Hierdeur is daar nie net politieke solidariteit in die Babiloniese ryk geskep nie, maar ook ‘n nuwe wêreldgodsdiens gevestig. Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary) beskryf die betekenis van die beeld se aanbidding só:

“Die feit dat die amptenare nie net beveel is om voor die beeld neer te val nie, maar dit ook te aanbid, dui daarop dat die beeld sowel politieke as godsdienstige betekenis gehad het. Aangesien geen spesifieke god genoem is nie, kan die gevolgtrekking gemaak word dat Nebukadnésar nie een van Babel se gode vereer het nie, maar met die aanbidding van die beeld die grondslag vir ‘n nuwe vorm van godsdienstige verering gelê het. Nebukadnésar se doel was om ‘n verenigde koninkryk en ‘n verenigde godsdiens daar te stel. Die koning was die hoof van die staat én ook die hoof van die Babiloniese godsdiens. Alle mense, en spesifiek ook al die amptenare in sy regering, moes sy politieke en godsdienstige gesag erken.”

Die teenwoordigheid van die koning, die grootsheid van die geleentheid, die indrukwekkendheid van die beeld, die formele aard van die aankondiging, asook die emosies wat deur die musiek geskep is, het alles daartoe bygedra dat die hele regering en al die verteenwoordigers van ander volke sonder enige teëspraak neergeval en die beeld aanbid het. Hulle is deur ‘n gevoel van patriotisme en blinde lojaliteit teenoor die koning vervul, en was selfs bereid om hom as ‘n god te aanbid wat vir ewig lewe. Hulle het dit spontaan onder die krag van misleiding gedoen, eerder as dat hulle deur die brandende vuuroond van die koning se bevele afgeskrik is.

Reaksie van die Joodse ballinge

Die Joodse ballinge, en spesifiek Daniël se drie vriende, het geweier om neer te buig en die beeld te aanbid. Daar was sekerlik baie verskonings wat hulle kon aanbied om tóg maar een keer voor die beeld neer te buig: Hulle is nie gevra om hulle God of godsdiens af te lê nie, maar slegs om te buig en die beeld te aanbid; hulle is hiertoe gedwing en kon die skuld op die koning pak; Nebukadnésar was hulle weldoener en miskien kon hulle hom maar die eer gee wat hom toekom; hulle was baie ver van hulle vaderland met sy wette en gebruike verwyder, ens. Vir hulle was daar egter net een oorweging wat van belang was, en dit is dat die eer van God ten alle koste en onder alle omstandighede beskerm moes word. Hulle het gevolglik geweier om neer te buig en die beeld te aanbid, en is onmiddellik by die koning aangekla. Daniël sê:

“[Daar het] Chaldeeuse manne nader gekom en die Jode aangekla. Daarop het hulle met koning Nebukadnésar gespreek en gesê: Mag die koning vir ewig lewe! U, o koning, het ‘n bevel gegee dat elke mens wat die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, moet neerval en die goue beeld aanbid; en dat hy wat nie neerval en aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond gegooi moet word. Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel het, Sadrag, Mesag en Abednégo; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid hulle nie. Toe het Nebukadnésar, toornig en woedend, bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te laat kom. Daarop is die manne voor die koning gebring. En Nebukadnésar het gespreek en vir hulle gesê: Is dit met opset, Sadrag, Mesag en Abednégo, dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat ek opgerig het, nie aanbid nie? As julle dan nou, sodra julle die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, bereid is om neer te val en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid, goed; maar as julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos? Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie. Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo; as antwoord het hy bevel gegee om die oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was. En aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende vuuroond te gooi. Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi. Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand. Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval. Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o koning! Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ‘n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ‘n godeseun. Toe het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en daarop gesê: Sadrag, Mesag en Abednégo, knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier! Toe het Sadrag, Mesag en Abednégo uit die vuuroond uitgegaan. Daarop het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die vuur geen mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie geskroei het nie, en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie. Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God. Daarom word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, stukkend gekap en van sy huis ‘n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie. Toe het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo voorspoedig laat wees in die provinsie Babel” (Dan. 3:8-30).

Nebukadnésar was baie verbaas toe hy in die vuuroond kyk en sien dat vier manne daarin loop sonder ‘n letsel aan hulle. Die vierde een was waarskynlik Christus voor sy menswording, maar Nebukadnésar het niks van Hom af geweet nie. Hy het wél gesien dat dit nie ‘n gewone mens was nie, en hom as ‘n seun van die gode beskryf. Die Here het beloof dat Hy altyd by en met die opregte lede van Israel sou wees, ook in hulle nood: “Wees nie bevrees nie, wat Ek het jou verlos... as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland” (Jes. 43:1-3). Hoewel dit in ‘n geestelike sin as hulp in benoudheid bedoel word, het die Here soms sy diensknegte op ‘n bonatuurlike manier uit fisiese gevare gered, soos wat hier beskryf word.

Hierdie besondere daad van verlossing uit die brandende vuuroond het Nebukadnésar laat erken dat Israel se God, Jahweh, hoër en magtiger as die gode van Babilon is. Vroeër het Nebukadnésar nie so gedink nie, want hy het Jerusalem ingeneem, die tempel gestroop en van die voorwerpe daarvan in die tempel van sy god, Mardoek, in Babilon gesit. Nou het hy egter gelas dat daar eerbied vir Jahweh moes wees. Nebukadnésar het steeds nie vir Jahweh as sý God aanvaar nie – hy het slegs erkenning aan Hom gegee vir die magtige daad van sy verlossing. Nebukadnésar het met sy selfverheffing, magsbeheptheid en die aanspraak op verering deur sy onderdane voortgegaan. Diep in sy hart moes hy egter geweet het dat hy nie in die regte verhouding met die almagtige God was nie.

Ons kan baie leer uit die drie getroue Jode se weiering om kompromie te maak en voor ‘n afgodsbeeld neer te buig. Die verval van die Christendom wat vandag oral in die wêreld voorkom, kan toegeskryf word aan gelowiges se gebrek aan motivering om onder alle omstandighede gedissiplineerd en beginselvas te leef. Ons het, soos die gemeente in Laodicea, lou en materialisties geraak. Ons beskou onsself as Christene, ten spyte daarvan dat ons lewenstyl nie altyd deur die Bybel bepaal word nie, maar deur die wêreld. ‘n Getroue getuie van God is ‘n persoon wat sy Bybel ken, en as die Woord vir jou sê: “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig nie,” dan doen jy dit nie – ongeag die gevolge daarvan. Daniël se drie vriende was selfs bereid om te sterf indien die Here hulle nie uit die vuuroond sou verlos nie.

Eindtydse toepassing

Daar is ‘n belangrike profetiese toepassing van die gebeurtenisse in die Babiloniese ryk op die eindtyd. Vorms van rebellie teen God is hier gevestig wat almal skadubeelde van die groot eindtydse rebel, die Antichris, se optrede is. Die Babiloniese ryk was die eerste en belangrikste wêreldryk waardeur die tye van die nasies tydens die Babiloniese ballingskap van Israel ingelui is. Dit het verskeie heidense tradisies gevestig wat deur die ander wêreldryke nagevolg is. Al hierdie beginsels en gebruike sal in ‘n oortreffende mate tydens die eindtydse wêreldryk van die Antichris ingestel en afgedwing word. Die volgende is die belangrikste parallelle tussen die Babiloniese ryk en die Antichris se toekomstige wêreldregering:

Nebukadnésar is ‘n tipe van die Antichris:

  • Hy het Jerusalem beleër, ingeneem en baie van sy inwoners as ballinge weggevoer. Die Antichris sal ook teen Israel veg en die meeste inwoners uit hulle land verdryf. Die Here sal aan hulle ‘n plek van ontvlugting gee waar ‘n oorblyfsel van uitwissing gered sal word (Matt. 24:15-20; Op. 12:13-16).
  • Nebukadnésar het die tempel ontheilig, baie van die heilige voorwerpe weggeneem en in die tempel van sy afgod gesit. Sodoende het hy die God van Israel geminag. Die Antichris sal ook die tempel ontheilig deur homself daarin tot god te verklaar (2 Thess. 2:4). Hierdeur sal hy homself in die plek van die God van Israel stel.
  • Nebukadnésar het Israel se koning om die lewe gebruik en daardeur die koningskap van Israel as God se volk beëindig. In die plek daarvan het hy die heidense Babiloniese ryk as die oorheersende koninkryk in die wêreld gevestig. Dit was die begin van die tye van die heidense nasies. Die Antichris sal ook verhoed dat Israel hulle koningshuis herstel en homself tot hulle koning verklaar (Jes. 10:12-13). Terselfdertyd sal hy die hoof van ‘n goddelose wêreldryk wees wat oor Israel sal heers. Hy sal sy heidense regering probeer verewig.
  • Nebukadnésar het ‘n valse wêreldgodsdiens op al die volke afgedwing, ook op Israel. Hierdie godsdiens het amptelike erkenning in sy ryk geniet. Die Antichris sal aan sy alliansie van valse gelowe volmag gee om almal te vervolg wat nie aan hulle dwalings meedoen nie (Op. 17:1-6).
  • Nebukadnésar het ‘n beeld gemaak en alle volke gedwing om voor die beeld neer te buig en dit te aanbid. Die beeld was die versinnebeelding van die Babiloniese godsdiens en koninkryk waarvan hy die hoof was. Die Antichris sal ‘n beeld van homself maak en almal dwing om die beeld te aanbid. Almal sal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie (Op. 13:15).
  • Nebukadnésar het ‘n huwelik tussen politiek en godsdiens bewerkstellig en in noue assosiasie met die valse godsdiens van sy tyd regeer. Al sy amptenare was verplig om hierby in te skakel. Die Antichris sal ook saam met die alliansie van wêreldgodsdienste regeer, wat in Openbaring 17 as ‘n vrou uitgebeeld word wat op die dier se rug ry. Die naam van die vrou is “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere” (Op. 17:5). Die antieke Babiloniese geloof in waarsêery, towery en afgodsaanbidding sal dus in die komende ryk van die Antichris herleef.
  • Nebukadnésar het die destyds bekende wêreld ook ekonomies beheer, belastings gehef en bepaal wat die regte en verpligtinge van elke volk in sy ryk was. Die Antichris sal in sy ryk die wêreld ekonomies streng beheer en selfs aan elkeen ‘n nommer gee waarsonder hy nie kan koop of verkoop nie (Jes. 10:14; Op. 13:16-18). In Openbaring 18 word die Antichris se eindtydse ekonomiese oorheersing van die wêreld ‘n Babiloniese sisteem genoem.
  • Nebukadnésar wou sy koninkryk permanent ten koste van ander volke vestig – veral ten koste van Israel en sy God. Die Antichris sal ook poog om ‘n bestendige koninkryk te vestig waarin hy oor alle volke regeer, en veral oor Israel. Hy sal alles in die stryd werp om te voorkom dat Israel se Messias die troon van Dawid in Israel herstel, want dit sal die einde van sy koninkryk beteken (Op. 19:19).

Net so min as wat Nebukadnésar met die lang termyn planne vir sy koninkryk geslaag het, sal die Antichris in sy doelwit slaag om Israel te verdelg en sy eie koninkryk permanent te vestig. Soos wat die Here die getroue Israeliete uit Nebukadnésar se vuuroond verlos het, sal hy ook ‘n groep Israeliete in die komende groot verdrukking van verdelging deur die Antichris verlos.

Die volk Israel het in historiese tye dikwels in die vuur van vervolging beland – onder Nebukadnésar, die Romeine, Hitler se Nazi-magte en verskeie ander vyandige magte, maar, soos die brandende braambos in die woestyn, het hulle nooit uitgebrand nie. So is die volk Israel tot vandag toe wonderbaarlik in stand gehou. Ons wag nou op die dag wanneer hulle die Messias sal aanvaar, hulle ongeloof en oortredings vergewe sal word, en as ‘n geestelik herstelde volk die rus van die vrederyk sal geniet. Voor hierdie geseënde tyd sal die vuur van vervolging egter nog ongekende hoogtes tydens die Antichris se skrikbewind bereik.

In die komende verdrukking sal die Antichris homself in die tempel in Jerusalem tot God verklaar en almal laat doodmaak wat weier om voor hom neer te buig (2 Thess. 2:4; Op. 13:15). Hy sal slegs deur die bloed van die Lam oorwin kan word, maar dit sal behels dat sy teëstanders hulle lewe vir die ware Messias sal moet aflê (Op. 12:11; 20:4).

Wanneer die Here Jesus as Messias na die aarde terugkeer, sal dit in ‘n tyd wees wanneer groot oordele oor sy vyande uitgestort word. Die slag van Armageddon sal aan die gang wees en daar sal ook ‘n groot aardbewing plaasvind waarin die herboude Babilon van die eindtyd vernietig sal word: “En een sterk engel het ‘n klip opgetel soos ‘n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met ‘n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie” (Op. 18:21; vgl. Op. 16:18-19).

Alle herinneringe aan die goddelose koninkryke van die nasies wat by Babilon begin het, sal met die verwoesting van die herboude Babilon van die eindtyd beëindig word, asook al die goddelose tradisies en gebruike wat daarmee in verband gestaan het. Dit wat Nebukadnésar tot stand gebring het, en wat deur die eeue heen deur verskillende heidense nasies en koninkryke voortgesit is, sal vernietig word voordat Israel se koninkryk onder die bewind van die Messias herstel sal word. Die beeld van heidense heerskappy moet vergruis en tot stof vermaal word voordat die wêreldwye rotskoninkryk van die Messias die aarde sal vul.

 

Daniël 4. Nebukadnésar se Tweede Droom

In Daniël 4 word die volgende beskrywing van Nebukadnésar se tweede droom gegee:”

“Koning Nebukadnésar aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon: Mag julle vrede groot wees! Dit behaag my om die tekens en wonders wat die allerhoogste God aan my gedoen het, te verkondig. Hoe groot is sy tekens, en hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag! Ek, Nebukadnésar, het rustig in my huis gelewe en was voorspoedig in my paleis. Ek het ‘n droomgesig gesien wat my verskrik het – droombeelde op my bed en die gesigte van my hoof het my verontrus. Daarop is deur my bevel gegee om al die wyse manne van Babel voor my te bring, dat hulle my die uitlegging van die droom bekend kan maak. Toe het die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers gekom, en ek het hulle die droom vertel, maar hulle het sy uitlegging my nie bekend gemaak nie; totdat eindelik Daniël voor my ingekom het, wie se naam Béltsasar is, na die naam van my god, en in wie die gees van die heilige gode is; en ek het hom die droom vertel: Béltsasar, owerste van die geleerdes, van wie ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en dat geen enkele geheim jou kwel nie, vertel my die droomgesigte wat ek gesien het, naamlik die uitlegging daarvan. Wat nou die gesigte van my hoof op my bed betref – ek het gesien, en kyk, daar was ‘n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was groot. Die boom het groot geword en sterk, en sy hoogte het tot aan die hemel gereik, sodat hy tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was. Sy blare was mooi en sy vrugte baie, en aan hom was vir alles voedsel; onder hom het die diere van die veld skaduwee gesoek, en in sy takke het die voëls van die hemel gewoon, ja, alle vlees is daardeur gevoed. Ek het in die gesigte van my hoof op my bed gesien, en kyk, ‘n bode, naamlik ‘n heilige, het uit die hemel neergedaal; hy het hardop geroep en só gesê: Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke. Maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met ‘n band van yster en koper in die groen gras van die veld; en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en saam met die diere deel hê aan die plante van die aarde. Laat sy hart anders word as dié van ‘n mens en ‘n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan. Op ‘n besluit van die bodes berus die bevel, en ‘n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel. Dit is die droomgesig wat ek, koning Nebukadnésar, gehad het; en jy, Béltsasar, sê my die uitlegging, omdat al die wyse manne van my koninkryk my die uitlegging nie kon bekend maak nie; maar jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou. Toe het Daniël, wie se naam Béltsasar was, ‘n oomblik verstom gestaan en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning het daarop gespreek en gesê: Béltsasar, laat die droom en die uitlegging jou nie verskrik nie. Béltsasar het geantwoord en gesê: My heer, mag die droom u haters en sy uitlegging u teëstanders oorkom. Die boom wat u gesien het – wat groot en sterk geword het, en waarvan die hoogte tot aan die hemel gereik het en wat vir die hele aarde sigbaar was, en waarvan die blare mooi en die vrugte baie gewees het, en waar voedsel vir alles aan was, waaronder die diere van die veld gehou en in die takke waarvan die voëls van die hemel gewoon het – dit is u, o koning, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde. En dat die koning ‘n bode, naamlik ‘n heilige, uit die hemel sien neerdaal het met die woorde: Kap die boom om en verwoes hom, maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met ‘n band van yster en koper in die groen gras van die veld, en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en sy lot saam met die diere van die veld wees totdat sewe tydperke oor hom heengegaan het – dit is die uitlegging, o koning, en dit is die besluit van die Allerhoogste wat oor my heer die koning kom: Hulle sal u uit die mensdom verstoot, en u woning sal saam met die diere van die veld wees, en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil. En dat hulle bevel gegee het om die penwortel van die boom te laat staan – u koningskap sal vir u bestendig wees vandat u erken het dat die hemel heers. Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees. Dit alles het oor koning Nebukadnésar gekom. Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel, het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie? Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar ‘n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê – die koningskap word jou ontneem; en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil. Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadnésar – hy is uit die mensdom verstoot en het plante geëet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls. En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ‘n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is. En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie? In dié tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my koningskap betref – my majesteit en my glans het in my teruggekeer, en my raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel, en buitengewone grootheid is my toegevoeg. Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel” (Dan. 4:1-37).

Daniël 4 is uniek in die Bybel omdat dit deur ‘n nie-Joodse koning geskryf is wat die getuienis oor sy persoonlike geloof in die ware God van die hemel daarin gee. Ná Nebukadnésar se ondervinding wat in hierdie hoofstuk beskryf word, het hy sy getuienis opgestel en aan al die konings in sy ryksgebied uitgestuur. In sy getuienis stel hy homself onvoorwaardelik aan God ondergeskik wanneer hy sê: “Sy koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag” (4:3). Met hierdie woorde erken Nebukadnésar dat sy koninkryk nie sulke eienskappe het nie. Dit is ‘n belangrike bekentenis vir só ‘n koning, want ons het reeds in Daniël 2 en 3 gesien dat hy homself as die permanente oppergesag van die aarde beskou het. Nou het hy tot berusting gekom en sy eie gesag as komende van God aanvaar.

In die laaste verse van hierdie hoofstuk het Nebukadnésar inderdaad sy persoonlike geloof in en afhanklikheid van God bely. Hy sê: “Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.” Met hierdie getuienis het hy terselfdertyd die grondwet van sy magtige koninkryk verander, want hy het daarna uitdruklik die oppergesag van die ware God erken.

Hierdie persoonlike getuienis van bekering én amptelik beleidsverklaring is ‘n goeie voorbeeld vir moderne staatshoofde, waarvan die meeste reeds sekulêre grondwette aanvaar het waarin God se oppergesag nie erken word nie, en ook nie die beproefde riglyne wat in sy Woord uiteengesit is nie. Die arrogante leiers wat hulleself teen die God van die hemel verhef, moet nie verbaas wees as hulle in die komende verdrukking deur die Here verneder word nie. Hy sê: “Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder” (Jes. 13:11).

Die gebeurtenisse van Daniël 4 speel waarskynlik naby aan die einde van Nebukadnésar se bewind van 43 jaar af. Hy sê dat hy rustig en voorspoedig was (4:4). Dit dui daarop dat hy feitlik alles bereik het wat hy in sy koninkryk vir homself ten doel gestel het. Daar was ook geen noemenswaardige bedreiging van buite af nie. Ons sien dus hier ‘n mens wat baie tevrede met homself is, en dink dat hy niks van iemand anders óf van God nodig het nie.

God is egter steeds besig om met hierdie man te werk, en skielik moet sy rustigheid vir verontrusting plek maak. Elke mens wat tot bekering kom, het alles aan die genadige werking van God te danke. Almal van ons het egter die verantwoordelikheid om keuses te maak en besluite te neem as ons in die regte verhouding met die Here wil kom. Dikwels word ons in moeilike omstandighede geplaas waaruit ons net deur die Here gered kan word. Selfs in sulke situasies moet ons keuses maak oor waar ons ons hulp gaan soek. Nebukadnésar het die regte besluit geneem, daarom kon hy roem in die Here wat hom uitgered het.

Die feit dat sy droom hom verontrus het, is waarskynlik daaraan toe te skryf dat hy vermoed het wat die uitleg daarvan was, naamlik dat hy self die boom was wat afgekap sou word. Was sy wyse manne werklik nie in staat om die droom te verklaar nie, of was hulle dalk net bang om sulke slegte nuus aan die koning oor te dra? Uiteindelik verskyn Daniël ook voor die koning. Het die koning hom dan eers laaste ingeroep? Ek dink nie so nie. Hy het waarskynlik rustig sy kans afgewag om aan die einde weer te bewys dat die mag en wysheid van God dié van die Chaldeërs ver te bowe gaan.

Vers 17 versterk die vermoede dat Nebukadnésar ‘n goeie idee moes gehad het van wat die droom beteken, want hier sê hy, nog voordat die droom deur Daniël uitgelê is, dat die bodes (dit is engele) bevel gegee het dat die boom afgekap moes word sodat lewendes die mag van die Allerhoogste oor die koningskap van die mens sal erken. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jak. 4:6). Elkeen van ons word opgeroep om sy eie toestand van onwaardigheid en verlorenheid voor God te erken en te bely, want daarsonder kan die Here Jesus nie sy werk van versoening en heiligmaking in ons voltrek nie.

Daniël is ook eers huiwerig om só ‘n slegte boodskap aan die koning oor te dra, maar hy word gerusgestel. Nebukadnésar moes hoor dat sy ergste vrees wél gegrond was. Hy was die groot boom wat soveel majesteit en eer rondom homself vergader het, en wat nou afgekap sou word. Daar is egter nog hoop vir die toekoms, want die boom word nie totaal uitgeroei nie. Die penwortel bly staan en word verder deur ‘n band van koper en yster beskerm. Nebukadnésar se kranksinnigheid sou sewe tydperke lank duur, m.a.w. sewe seisoensjare. ‘n Tyd word ook in Daniël 7:25 as een jaar verklaar.

Indien die koning ná die sewe jaar die almag van God erken, sou hy in sy amp herstel word. God se strafgerigte in die Bybel is dikwels daarop ingestel om ‘n volk of ‘n individu tot inkeer te bring. Sy genade en liefde teenoor sondaars is altyd in sy tugtiging duidelik. Daniël verstaan die saak ook so en voeg ‘n woord van vermaning by deur vir die koning te sê: “Breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges ” (4:27). Nebukadnésar het op sy weg na sukses en roem baie ongeregtighede gepleeg en baie ellendiges vertrap. So sal hy nooit voor God kan verskyn nie. Hy moes met sy sonde breek en dit voor God bely indien hy genade wou ontvang.

Ons lees in vers 30 dat die uurglas vir Nebukadnésar uitgeloop het toe hy weer in ‘n oomblik van selfvoldaanheid al sy geboue en prestasies gadegeslaan het: “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?” Hierdie soort selfverheerliking is ook die groot probleem met die wêreld van ons dag. Die wetenskap en tegnologie het so ver gevorder dat die mensdom begin dink dat daar byna niks vir hom onmoontlik is nie, en dat hy self al sy probleme sal kan oplos. Loop ons nie ook die gevaar om oor al ons eiewaan die stem van oordeel uit die hemel te hoor nie?

Nebukadnésar se straf het die gewenste uitwerking gehad, want ons lees in vers 34 dat hy ná verloop van tyd sy oë na die hemel opgeslaan het. Nou is dit nie meer, soos in die vorige hoofstukke, slegs ‘n erkenning van God se mag, of ‘n proklamasie dat niemand van die God van die hemel sleg mag praat nie. Nee, in nederigheid en diep onder die besef van sy toestand van mislukking en verlorenheid soek hy nou self sy hulp by God. Sy gebed word nie beskaam nie en hy word onmiddellik herstel. Daarna volg sy danklied waarin hy die heerskappy en almag van God prys. In die laaste vers stel hy dit onomwonde dat hy persoonlik die Koning van die heelal roem en eer.

Uit Nebukadnésar se ervaring leer ons dat bekering die stap is waarin ‘n mens van jou lewe van sonde en ongehoorsaamheid omdraai en vir redding voor God se genadetroon neerbuig. Hy vergewe jou, red jou siel en stel jou in staat om daarna op ‘n heel nuwe pad van diensbaarheid aan God en getuienis van sy groot dade te wandel. “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:15). Ons word uit genade gered, deur die geloof – nie deur werke nie (Ef. 2:8). Geen mens kan sy saligheid deur goeie werke verdien nie. ‘n Stap wat ons egter móét neem, is dié van bekering – om ons sondes te bely en ons vir redding tot God te wend. Daarna moet ons doelgerig vir die Here werk – nie om gered te word nie, maar omdat ons gered is (Ef. 2:10). Ons moet getuienis van God se genade tot redding lewer, sodat ander ook tot bekering kan kom. Nebukadnésar het nie net van sy persoonlike redding getuig nie, maar ook sy groot koninkryk se grondwet verander om die gesag van God te erken.

Profetiese perspektief

Die sewe jaar van Nebukadnésar se kranksinnigheid het ook ‘n profetiese toepassing. In Daniël 9:27 lees ons van ‘n jaarweek (‘n tydperk van sewe jaar) waarin die Antichris oor die aarde sal regeer. Hierdie tyd word in twee helftes van 3½ jaar elk verdeel. In die eerste helfte sal die Antichris as ‘n valse vredevors regeer en die mensdom toelaat om baie verskillende gode te aanbid op voorwaarde dat hulle hom as die oorkoepelende wêreldmessias erken. In die tweede helfte van die week sal hy, soos Nebukadnésar, ‘n beeld laat oprig en almal met die dood dreig wat sou weier om voor die beeld neer te buig en dit te aanbid (Op. 13:15). Hy sal dus ‘n tipies Babiloniese godsdiens van verpligte afgodediens instel. Volgens Openbaring 13:5 sal sy skrikbewind 42 maande lank duur, wat presies 3½ jaar is.

Die oordele wat gedurende ‘n tydperk van sewe jaar oor Nebukadnésar gekom het, is ‘n profetiese tipe van die oordele wat gedurende die komende verdrukking van sewe jaar oor die hele mensdom sal kom. Die eindtydse mensdom se humanistiese selfvoldaanheid en selfverheffing is só erg dat God openlik gesmaad en verwerp word. “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde (Christus) en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps. 2:2-3). Ons kan verwag dat die goddelose mense wat deur hulle optrede die Babiloniese kultuur en godsdiens laat herleef, net soos Nebukadnésar daarvoor in die gerig gebring sal word.

In die komende tydperk van sewe jaar sal een ramp en oordeel ná die ander die mens en al die prestasie wat hy bereik het, tref (Op. 6 tot 19). Konings en maghebbers sal in dié tyd in ‘n soortgelyke posisie as Nebukadnésar wees. Johannes sê: “Die konings van die aarde en die grotes en die rykes... het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:15-17).

Tóg sal die wortel steeds oorbly en die ganse mensdom sal nie uitgewis word nie, want Jesus het gesê: “As daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:22). Aan die einde van die verdrukking sal daar ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies gered word: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Dit is veel beter om berou oor jou sonde te hê voordat jy in die oordele van die Here kom. Diegene wat dít doen, kom nie in die oordeel nie omdat hulle oorgegaan het uit die dood in die lewe. Die Here Jesus het vir sy dissipels gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). ‘n Relatief klein groep ware dissipels van Christus sal die komende oordeel van die verdrukking van sewe jaar ontvlug. Die groot meerderheid op die breë weg sal, soos Nebukadnésar, as gevolg van hulle sonde en ongeregtigheid die voorwerpe van God se toorn wees. Die klein groep wat dit oorleef, sal die Seun van die Mens op die wolke van die hemel sien kom wanneer die sewe jaar verby is.

Op daardie oomblik sal die tye van die nasies verby wees en sal Israel se koninkryk onder die persoonlike beheer van die Messias herstel word. Net mense wat aan Hom behoort omdat hulle siele gered is, sal saam met Hom in sy koninkryk op aarde regeer. Onder sy dissipels sal daar Jode wees sowel as ‘n groot menigte uit elke volk en taal en nasie. Indien Nebukadnésar as ‘n gelowige gesterf het, sal hy ook in dié koninkryk wees, wat veel groter en wonderliker sal wees as die eens magtige Babiloniese ryk wat hy opgebou het.

 

Daniël 5. Die Skrif aan die Muur

Nebukadnésar het 43 jaar lank regeer en in dié tyd die Babiloniese ryk uitgebrei en verenig. Hy het as heerser ‘n onaanvegbare posisie beklee. Nebukadnésar is in 562 v.C. dood, en in die daaropvolgende jare totdat Kores die Babiloniese ryk in 539 v.C. tot ‘n val gebring het, het hierdie magtige wêreldryk intern in chaos en wanorde verval. Afgodediens is weer met mening beoefen en alle pogings is aangewend om Nebukadnésar se verering van die ware God van die hemel met die Babiloniese tradisie van afgodediens te vervang. Magsbeheptheid het ook tot só ‘n mate van die nuwe leiers besit geneem dat een ná die ander van hulle in komplotte en sluipmoorde vermoor is. Die ryk het ook toenemend verdeeld en verswak geraak, en deur sy leiers se eie toedoen was die einde vir hulle spoedig in sig.

Nebukadnésar is in 562 v.C. deur sy seun, Evil-Meródag, opgevolg (2 Kon. 25:27). Hy het twee jaar lank regeer voordat hy Augustus 560 v.C. deur Nebukadnésar se skoonseun, Nergal-Saréser, vermoor is. Ons lees van hom in Jeremia 39:3. Nergal-Saréser het vier jaar lank regeer, van 560 tot 556 v.C. Ná sy dood is hy deur sy jong seun, Labasi-Mardoek, opgevolg, wat net twee maande lank regeer het voordat hy in ‘n sluipmoordaanval om die lewe gebring is. Labasi-Mardoek is deur Nabonidus opgevolg, wat ‘n ander skoonseun van Nebukadnésar was. Nabonidus het tot met die val van Babel in 539 v.C. regeer. Hy was met Nebukadnésar se dogter, Nitocris, getroud, en sy moeder was die hoëpriesteres van die maangod, Sin, in Haran. Onder haar beïnvloeding het hy ‘n groot belang by die uitbreiding van die Babiloniese godsdiens gehad, en het baie gedoen om van die vervalle en verlate tempels te herstel.

Nabonidus was vir 10 van die 17 jaar waarin hy koning was, van Babilon af weg. Hy het eers die tempel van die maangod in Haran herstel en daarna Edom en dele van Arabië aangeval en verower, waar hy ook ‘n tyd lank gewoon het. As gevolg hiervan het hy sy oudste seun, Belsasar, as mede-regeerder en koning in Babilon aangestel. Hoewel ons in Daniël 5:2 lees dat Belsasar die seun van Nebukadnésar was, was hy in werklikheid Nebukadnésar se kleinseun deur sy moeder, Nitocris. Dit was in Bybelse tye gebruiklik om enige van die voorvaders van ‘n persoon ook “vader” te noem. Dawid word bv. die vader van verskeie konings genoem.

Belsasar vier fees en bespot die Here

Belsasar se naam beteken “Bel het die koning beskerm.” Bel is ‘n ander naam vir Mardoek, die beskermgod van Babilon. (Ander volke noem hulle eie hoofbeskermgod “Baäl,” wat ook ‘n verpersoonliking van die songod is). Belsasar het in 539 v.C. ‘n baie groot geleentheid van een van Babilon se feesdae gemaak. Dit was ‘n tyd van groot bedreiging vir Babilon omdat die Persiese leër al drie maande lank buite die stad ontplooi was, maar Belsasar het homself nie hieraan gesteur nie en besluit om met die fees voort te gaan.

Die muur rondom Babilon was in elk geval, wat hom betref, ‘n oninneembare skans. Die ringmuur was 87 voet dik en 350 voet hoog, met 250 wagtorings. Binne-in die stad was genoeg kos en opgegaarde voorrade vir 20 jaar. Water was nie ‘n probleem nie, omdat die Eufraatrivier dwarsdeur die stad gevloei het. Daar was groot sluisdeure in die muur waardeur die water van die rivier in die stad ingevloei en anderkant weer uitgevloei het. Belsasar het dus nie die Perse gevrees nie en met sy fees voortgegaan. Daniël beskryf sy houding só:

“Koning Belsasar het ‘n groot maaltyd berei vir sy duisend maghebbers, en in teenwoordigheid van die duisend het hy wyn gedrink. By die genot van die wyn het Belsasar bevel gegee om die goue en silwervoorwerpe te bring wat sy vader Nebukadnésar uit die tempel van Jerusalem weggevoer het, sodat die koning en sy maghebbers... daaruit kon drink. Toe het hulle die goue voorwerpe gebring wat uit die tempel, uit die huis van God in Jerusalem weggevoer was, en die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue het daaruit gedrink. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys” (Dan. 5:1-4).

Belsasar het verskeie doelstellings met hierdie fees gehad: Hy het sekuriteit by die gode van Babilon teen die aanslag van die Perse gesoek en wou daardeur sy onderdane se vrese besweer. Hy het sy pa se pogings ondersteun om Babilon se gode en hulle heiligdomme in ere te herstel, daarom is hierdie gode geprys. Dit was ook ‘n doelbewuste poging om met die God van Israel die spot te dryf omdat Hy, volgens Belsasar, nie sy volk teen die Babiloniese aanslag kon beskerm nie. Die minagting van die ware God is gedemonstreer deurdat Belsasar, sy maghebbers en sy vroue uit die goue en silwervoorwerpe wat in die tempel in Jerusalem geroof is, wyn gedrink en hulle eie gode geëer het.

Dit is duidelik dat die drank hier begin praat het. Selfs Belsasar sou onder normale omstandighede nie maklik waag om die heilige voorwerpe van ‘n ander volk te ontheilig nie. Drank laat ‘n mens egter heeltemal anders as normaalweg optree, daarom sê die Bybel dat ons liewer onder die beheer van die Heilige Gees as onder beïnvloeding van drank moet wees (Ef. 5:18). Christene kan hulle getuienis in gevaar stel en selfs heeltemal verongeluk as hulle aan die immorele gebruike van die wêreld meedoen.

By hierdie geleentheid het drank Belsasar se totale ondergang beteken, want hy het soveel bravade aan die dag gelê dat hy sy hand na die heilige voorwerpe van die tempel in Israel uitgesteek het. Daardeur het hy die mag van die God van Israel uitgedaag. Hierdie was ‘n konfrontasie tussen die satanies-geïnspireerde, Babiloniese godsdiens en die enigste ware godsdiens wat op die verering van die Heilige van Israel gerig is. Belsasar het dus nie om een of ander nietige rede verkies om wyn uit die goue en silwerbekers te drink wat uit die tempel in Jerusalem kom nie – hy het die Here deur sy optrede uitgetart en uitgedaag. God laat Hom nie bespot nie, daarom sou Belsasar baie gouer as wat hy gedink het die ernstige gevolge van sy onbesonne daad moes dra.

Die skrif teen die muur

Die res van die gebeure van daardie noodlottige aand word só deur Daniël beskryf:

“Op dieselfde oomblik het daar vingers van ‘n mens se hand te voorskyn gekom en teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het. Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan. Die koning het hardop uitgeroep om die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers in te bring. Daarop het die koning gespreek en aan die wyse manne van Babel gesê: Enigeen wat hierdie skrif lees en my sy uitlegging te kenne gee, hy sal met purper beklee word, en ‘n goue ketting sal om sy hals wees, en as derde in rang sal hy in die koninkryk heers. Toe het al die wyse manne van die koning ingekom, maar hulle was nie in staat om die skrif te lees en sy uitlegging aan die koning bekend te maak nie. Toe het koning Belsasar baie verskrik geword, en sy gelaatskleur het aan hom verander, ook sy maghebbers was in verwarring. Na aanleiding van die woorde van die koning en van sy maghebbers het die koningin in die eetsaal ingegaan; die koningin het begin spreek en gesê: Mag die koning in ewigheid lewe! Laat u gedagtes u nie verskrik en u gelaatskleur nie verander nie. Daar is ‘n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is: in die dae van u vader is verligting en insig en wysheid soos die wysheid van die gode in hom gevind; daarom het u vader, koning Nebukadnésar, hom as owerste van die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs, die waarsêers aangestel – u vader, o koning! – omdat in hom ‘n voortreflike gees en kennis en verstand gevind is om drome uit te lê en raaisels op te los en knope los te maak – in Daniël aan wie die koning die naam van Béltsasar gegee het; laat Daniël nou geroep word, dan sal hy die uitlegging te kenne gee. Toe is Daniël voor die koning gebring; die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Is jy Daniël wat by die Joodse ballinge behoort, wat die koning, my vader, uit Juda gebring het? Ek het van jou gehoor dat die gees van die gode in jou is, en dat verligting en verstand en voortreflike wysheid in jou gevind word. Nou net is die wyse manne, die besweerders, voor my gebring om hierdie skrif te lees en sy uitlegging aan my bekend te maak; maar hulle is nie in staat om die uitlegging van die woord te kenne te gee nie. Maar ek het van jou gehoor dat jy uitlegginge kan gee en knope kan losmaak; as jy nou die skrif kan lees en sy uitlegging aan my bekend maak, sal jy met purper beklee word, en ‘n goue ketting sal daar om jou hals wees, en jy sal as derde in rang in die koninkryk heers. Toe het Daniël geantwoord en voor die koning gesê: U kan u gawes maar vir uself hou en u geskenke aan ‘n ander gee; nogtans sal ek die skrif vir die koning lees en die uitlegging aan hom bekend maak. Wat u betref, o koning, die allerhoogste God het aan u vader Nebukadnésar die koningskap en grootheid en heerlikheid en majesteit gegee. En vanweë die grootheid wat Hy hom gegee het, het al die volke, nasies en tale gebewe en vir hom gesidder; wie hy wou, het hy gedood, en wie hy wou, het hy laat lewe, en wie hy wou, het hy verhoog, en wie hy wou, het hy verneder. Maar net toe sy hart hom verhef het en sy gees verhard is om oormoedig te wees, is hy van die troon van sy koningskap afgestoot, en die heerlikheid is hom ontneem. En hy is uit die mense verstoot, en sy hart het soos dié van die diere geword, en hy het saam met die wilde-esels gewoon; hulle het hom plante laat eet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak totdat hy erken het dat die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor kan aanstel wie Hy wil. Maar u, Belsasar, sy seun, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles weet; maar u het u verhef teen die Here van die hemel, en die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring; en u en u maghebbers, u vroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink; en u het die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip geprys, wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, maar die God in wie se hand u asem en voor wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie. Toe is deur Hom die deel van die hand gestuur en hierdie skrif geskrywe. En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín. Dit is die uitleg van die woord: Mené – God het u koningskap getel en daar ‘n einde aan gemaak; tekél – u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; perés – u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee. Toe het Belsasar bevel gegee, en hulle het Daniël met purper beklee, met ‘n goue ketting om sy hals, en aangaande hom openlik uitgeroep dat hy as derde in rang in die koninkryk sou heers. In dieselfde nag is Belsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood” (Dan. 5:5-30).

Belsasar was nog met sy onheilige swelgery besig toe die hand in dieselfde uur verskyn en op die gepleisterde muur, reg oorkant die kandelaar sodat dit deur almal gelees kon word, begin skryf. Uit Belsasar se patetiese en bejammerenswaardige reaksie is dit duidelik dat hy ‘n skuldige gewete gehad het en deeglik daarvan bewus was dat sy partytjie iets van die verlede was. Miljoene mense se partytjies op aarde sal ook soos dié van Belsasar eindig wanneer hulle skielik in bewing hulleself nugter sal skrik in afwagting van die oordeel van God.

Die besweerders en sterrewiggelaars kon nie help om die skrif te ontsyfer nie. Hulle het wél oor sataniese magte beskik, maar toe hulle met God gekonfronteer is, was hulle hoegenaamd nie in staat om die skrif te lees nie. Daniël was nie by die dronkpartytjie teenwoordig nie, hoewel hy tóg as hoofamptenaar uitgenooi moes gewees het. Dit betaam nie ‘n ordentlike, gelowige mens soos hy om sy oë op só ‘n plek te wys nie. Die koninginmoeder het egter uit die dae van Nebukadnésar onthou dat Daniël oor groot wysheid beskik, en hy is ontbied.

Daniël het nie in die minste in die geskenke en bevordering belanggestel wat vir hom aangebied is nie. Hy sou derde in rang in die Babiloniese ryk gewees het, ná Nabonidus en Belsasar wat mede-regeerders was. Daniël het nie sy eie eer gesoek nie, maar dié van God. Sy houding is in skrille kontras met moderne gebruike, waar menseverering, omkopery en hoogs korrupte vorms van selfverryking aan die orde van die dag is. Daniël het Belsasar van die volgende drie ernstige wandade beskuldig:

1.    Belsasar het die verhaal van sy grootvader, Nebukadnésar, geken, en alles wat as gevolg van sy optrede met hom gebeur het. Tóg gaan hy op sy weg van selfverheerliking en ongeloof voort. As Belsasar só sterk aanspreeklik gehou word vir die bietjie lig wat hy ontvang het, hoeveel te meer sal ons dan aanspreeklik wees. Ons het die hele Bybel tot ons beskikking, asook byna 2000 jaar van kerkgeskiedenis. Belsasar het geweet maar nie geglo en volgens die feite tot sy beskikking gehandel nie. Jesus Christus het Homself aan ons geopenbaar en die skuld vir ons sonde gedra. Hy beloof in Mattheus 11:20-24 ‘n baie swaar straf vir diegene wat nie sy woord van verlossing aanneem nie.

2.    Hy het verwaand opgetree en God bespot deur die heilige voorwerpe te ontheilig. God het die mens geskape om Hom te verheerlik, en Belsasar het in hierdie basiese doel van menswees misluk.

3.    Hy het afgode aanbid. Hoewel afgodediens nie meer in hierdie vorm beoefen word nie, weet ons dat enigiets wat inbreuk op ons onverdeelde toewyding aan die Here Jesus is, afgodediens is.

In die lig van hierdie oortredings is Belsasar se tydperk van koningskap getel (mene) en beëindig. Hy is geweeg (tekel) en te lig bevind. Sy koninkryk is van hom weggeneem en verdeel (ufarsin) en aan die Meders en Perse gegee. Die beloofde geskenke is tóg aan Daniël gegee, want dit het gegaan om die eer van God wat daardeur uitgedra sou word – nie sy eie eer nie.

Die val van Babilon

In ander historiese bronne lees ons dat die Perse die water van die Eufraatrivier wat deur Babilon gevloei het, afgekeer het deur ‘n kanaal te grawe wat die water na ‘n nabygeleë meer laat wegvloei het. Die watervlak van die rivier het sodanig gesak dat die soldate aan die noorde- én suidekant deur die sluisdeure tot binne-in die stad kon marsjeer. Hulle het die stad sonder ‘n geveg ingeneem en vir Belsasar om die lewe gebring. Dit het in die nag van 16 Tisri (12 Oktober 539 v.C.) gebeur. Die daaropvolgende bewind van die Meders en Perse was die tweede fase van die tye van die nasies, soos deur die silwer bors en arms van die beeld in Daniël 2 voorgestel word.

Profetiese toepassing

In Openbaring 17 en 18 word die val van Babilon ook beskryf, maar hierdie keer is dit die Babiloniese stelsel van die Antichris wat in die komende groot verdrukking, kort voor die wederkoms van Christus, vernietig sal word. Daniël 5 het dus ook ‘n profetiese toepassing van oordele wat die koninkryke van hierdie verdorwe aarde te wagte kan wees. Ons het reeds die aandag op soortgelyke profetiese toepassings in Hoofstuk 2 gevestig waar die beeld wat die heidense koninkryke voorstel, in die eindtyd finaal vergruis sal word. In Hoofstuk 4 het die sewe jaar van Nebukadnésar se kranksinnigheid ook ‘n profetiese toepassing op die sewe jaar van verdrukking wat oor die hoogmoedige leiers en hulle onderdane van die eindtyd sal kom.

Soos wat die Babiloniese koninkryk se dae in Daniël 5 getel is, is die dae van die eindtydse wêreld wat eweneens in ‘n toestand van rebellie teen God is omdat hulle sy Woord én sy Seun verwerp het, ook getel. Op ‘n vasgestelde dag sal die teëhouer (die ware kerk van Jesus Christus) uit die weg geruim word, en dan sal die Antichris geopenbaar word en sal die aftelling van die laaste sewe jaar voor Christus se wederkoms begin (2 Thess. 2:6-12).

Gebeure in die Midde-Ooste is duidelike tekens van die tyd waarin ons leef. Die huidige Irak is die land waarin die oorblyfsels van die stad Babilon teenaan die Eufraatrivier geleë is. Babilon is stadig maar seker besig om uit die stof van die eeue op te staan. Die stad word sedert 1978 deur Irak herbou, en in September en Oktober 1987 is die eerste fase van die herboude Babilon feestelik ingewy. Dit sluit die suidelike deel van Nebukadnésar se paleis in, asook die beroemde troonsaal waarin die skrif tydens Belsasar se bewind teen die muur verskyn het. Dit is duidelik dat Babilon se rol in die geskiedenis van die nasies nog nie uitgespeel is nie.

In elk geval is daar internasionaal op kulturele, politieke en godsdienstige terreine beslis ‘n Babiloniese wêreldkultuur besig om te ontstaan. Die ontluikende nuwe wêreldorde stel alle godsdienste gelyk en minag daardeur openlik die God van die Bybel. Dit heg ook nie hoë waarde aan volksgrense nie, omdat dit hulle doel is om van alle mense in die eerste instansie wêreldburgers te maak. Hulle streef ook daarna om, soos Nebukadnésar van ouds, ‘n wêreldregering te skep wat absolute gesag oor alle volke op aarde sal hê.

Dit is skrikwekkend en haas ondenkbaar dat die moderne wêreldleiers ten spyte van al die historiese feite tot hulle beskikking, sowel as die profetiese voorkennis in die Bybel, voortgaan om ‘n Babiloniese nuwe wêreldorde te vestig. Behalwe vir die onwerkbaarheid daarvan, skep hulle duidelik die strukture vir die Antichris se wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie. Die Europese nasies bou geesdriftig saam aan die eindtydse Babiloniese wêreldregering deur van hulle nasionale soewereiniteit afstand te doen en ‘n belangrike deel van hulle regeringsmagte aan die Europese Parlement oor te dra. ‘n Gemeenskaplike Europese geldeenheid is reeds in gebruik en baan die weg vir nog meer en verreikende hervormings in die nabye toekoms.

Wanneer die verenigde Europa ook na die Midde-Ooste en Noord-Afrika uitgebrei het, sal die tyd vir die openbaring van die moderne koning van Babel, die Antichris, gereed wees. Hy sal uit die Midde-Ooste opstaan en daarvandaan sy opmars na wêreldleierskap maak. Dit beteken dat die oordele van God oor die eindtydse Babiloniese wêreldstaat naby gekom het. Wanneer daardie donker tyd vir die goddeloses aanbreek, sal die ware kinders van die Here, soos Daniël, met eer bekroon word en voor die hemelse Koning en Bruidegom verskyn.

 

Daniël 6. Daniël in die Leeukuil

Kores, die koning van die groot Medo-Persiese ryk, het die Meder, Darius, as koning van Babilon aangestel. Een van sy eerste pligte was om die oorwonne koninkryk van Babilon te reorganiseer. Hy het 120 goewerneurs-generaal in sy koninkryk aangestel, en oor hulle drie ministers, waarvan Daniël een was. Hy was toe minstens 83 jaar oud. Darius was ‘n baie goeie organiseerder, want hy het op meriete die beste persone aangestel wat bekwaam was om die land te bestuur. Daniël was vanweë sy buitengewone begaafdheid ‘n sekere keuse as minister, en die koning wou hom selfs oor die hele land aanstel.

Daniël leer hier aan ons ‘n baie belangrike les oor ‘n Christen se optrede in die werksituasie. Al staan jy in ‘n sekulêre beroep wat min met die werk van die Here te doen het, moet jy altyd onberispelik optree en alles doen asof vir die Here (Kol. 3:17). Selfs al werk jy vir ‘n goddelose organisasie, moet jy jouself as ‘n persoon van hoë integriteit onderskei, ‘n reguit pad loop en geen aandeel in korrupte praktyke hê nie.

Die goewerneurs was jaloers op Daniël se sukses en sy hoë posisie, en het alles probeer om hom by die koning in onguns te bring: “Toe het die ministers en die landvoogde gesoek om ‘n grond vir ‘n aanklag teen Daniël te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond vir ‘n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie. Daarop het dié manne gesê: Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ‘n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens” (Dan. 6:5-6).

Waarskynlik het Daniël se bidgewoontes, beginselvastheid en voorbeeldige lewe hierdie kollegas van hom nie aangestaan nie, omdat hulle sleg by hom afgesteek het. Vind ons dit nie vandag ook dat mense dikwels nydig teenoor nougesette Christene is wat nie saam met hulle wil drink, na vuil grappe luister of aan oneerlike dinge meedoen nie? Wêreldlinge lok gewoonlik sulke Christene uit om verkeerde dinge te doen, sodat hulle redes vir aanklagte teen hulle kan kry. Christene wat getuig, word ter wille van Christus gehaat. Dit behoort ons nie te ontmoedig nie, maar eerder te inspireer om vas te staan vir ons geloof.

Daniël het die toets geslaag, want sy kwaadwillige onderdane kon geen gronde vir enige klag teen hom vind nie. Dit is seker die beste getuigskrif wat enige mens kan kry – dat jou vyande geen fout met jou kan vind nie. In hierdie opsig is Daniël ook ‘n tipe van Christus, met wie die Fariseërs gedurig fout probeer vind en uiteindelik totaal onskuldig gestraf het.

Komplot teen Daniël se gebedslewe

“Al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die raadsmanne en die goewerneurs het beraadslaag dat die koning ‘n verordening moet uitvaardig en ‘n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae ‘n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word. Stel nou ‘n verbod vas, o koning, en laat ‘n bevelskrif skrywe wat volgens die onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik is. Hierom het koning Darius die bevelskrif en die verbod geskrywe. En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bokamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ‘n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het. Daarop het daardie manne aangestorm en Daniël gevind terwyl hy bid en voor sy God om genade smeek. Hulle het toe nader gekom en voor die koning oor die koninklike verbod gespreek: Het u nie ‘n verbod geskrywe dat elkeen wat gedurende dertig dae ‘n versoek doen aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie? Die koning het geantwoord en gesê: Die saak staan vas volgens onherroeplike wet van Meders en Perse. Toe het hulle geantwoord en voor die koning gesê: Daniël, een van die Joodse ballinge, het hom aan u, o koning, en aan u verbod wat u geskrywe het, nie gesteur nie, maar drie maal op ‘n dag doen hy sy gebed” (Dan 6:8-14).

Daniël het die wette van die land getrou nagekom sover as wat dit nie met die eise van sy godsdiens in botsing gekom het nie. Sy vyande kom toe en loods ‘n aanval op hom wat die hart van sy verhouding met die Here raak. Toe Daniël van die dekreet gehoor het wat uitgevaardig is, was daar oënskynlik nie eers konflik in sy hart oor wat hy moes doen nie. Hy het direk na sy bokamer gegaan en, soos gewoonlik, voortgegaan om God te aanbid. Wat leer ons uit Daniël se gebedslewe?

1.    Gebed was vir hom uiters belangrik – soveel so dat hy sy lewe daarvoor op die spel geplaas het. Gebed was sy verbindingslyn met God, en hy sou dit deur niks in die gevaar laat stel nie.

2.    Hy het ‘n vasgestelde plek en tyd vir gebed gehad. Hy het die gewoonte gehad om drie maal per dag in die bokamer te gaan bid. Hierdeur word eintlik net gesê dat Daniël gereeld gebid het. In die Nuwe Testament het die Here Jesus na die aarde toe gekom om God nader aan ons te bring, en Hy het die Heilige Gees gestuur om gedurig in ons harte te woon. Ons het ook die opdrag om sonder ophou te bid (1 Thess. 5:17). Ons kan dit doen omdat die teenwoordigheid van Jesus Christus in ons harte ‘n werklikheid is. Ons kan dwarsdeur die dag met Hom in verbinding wees oor alles wat ons besig is om te doen en waaroor ons besluite moet neem. Dit beteken egter nie dat ons nie spesifieke tye van stilte en afsondering met die Here moet hê nie. Ons moet by sekere geleenthede die wêreld en sy gedagtes afsluit om alleen met die Here in gesprek te wees. Dit sal bepaal of ons ook vir die res van die dag voortdurend met die Here Jesus in verbinding sal bly.

3.    Hy het ‘n bepaalde doel met sy gebede gehad. Ons lees dat sy venster altyd in die rigting van Jerusalem oop was. Dit was nie net ‘n gewoontehandeling nie, maar dui daarop dat hy in sy gebede aan die verlore toestand van sy volk en die verlatenheid van hulle stad en sy heiligdomme gedink het. Die naam Jerusalem beteken Stad van vrede (of heil), maar groot onheil het hierdie stad en sy inwoners getref. Daniël het vir die redding van Israel en hulle terugkeer na Jerusalem gebid. Die belangrikste onderwerp van u en my gebede behoort ook die redding van mense te wees. Dit is in elk geval die groot taak wat die Here voor sy hemelvaart aan ons opgedra het. Ons sal nooit hierdie opdrag kan uitvoer as ons nie gereeld en in die besonder vir die redding van siele en die koms van die Here se koninkryk bid nie.

4.    Daniël het die regte gebedshouding van nederigheid en selfverloëning gehad. Die feit dat hy gekniel het, is belangrik omdat dit op die innerlike ingesteldheid van sy hart gedui het. Voorbeelde hiervan vind ons in 1 Kon. 8:54; Esra 9:5; Luk. 22:41; Hand. 7:60 en Hand. 9:40. Om te kniel is ‘n goeie houding om in te neem. Ons moet dit egter nie net uit gewoonte doen nie, maar om aan te toon dat ons nietige mense is wat diep van die Here afhanklik is. Ons verootmoedig onsself wanneer ons tot die genadetroon van die grote en goeie God nader wat lankmoedig en groot van barmhartigheid is.

Daniël was in vele opsigte ‘n suksesvolle mens, en die geheim vir sy sukses was niks anders as gereelde kontak met sy hemelse Vader nie.

Daniël word veroordeel en verlos

Toe koning Darius van Daniël se voortgesette gebede gehoor het wat strydig met sy dekreet was, was hy diep bedroef en het planne beraam om Daniël te verlos. Hy kon egter niks aan die saak doen nie, omdat die wette van die Meders en Perse onherroeplik was. Hy was teësinnig verplig om hierby te berus:

“Toe het die koning bevel gegee, en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. Die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos! En ‘n klip is gebring en op die opening van die kuil gelê, en die koning het dit met sy ring en met die ring van sy maghebbers verseël, sodat niks anders met Daniël sou gebeur nie. Toe het die koning na sy paleis gegaan en met vas die nag deurgebring en die byvroue nie voor hom laat kom nie, en sy slaap het van hom weggevlug. Daarop het die koning die môre vroeg toe dit lig word, opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan. En toe hy nader kom na die kuil, het hy met ‘n droewige stem na Daniël geroep; die koning het gespreek en aan Daniël gesê: Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos? Toe het Daniël met die koning gespreek: Mag die koning vir ewig lewe! My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie. Toe het die koning baie bly geword en bevel gegee om Daniël uit die kuil op te trek. So is Daniël dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar ‘n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het. En die koning het bevel gegee, en hulle het daardie manne gebring wat Daniël aangekla het, en hulle, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi; en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene vermorsel. Toe het koning Darius aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees! Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot die einde toe. Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het” (Dan. 6:17-28).

Darius was ‘n besondere persoon wat heel anders as sy senior amptenare opgetree het. Wat was die rede hiervoor en waarom was hy so bekommerd oor wat met Daniël in die leeukuil sou gebeur? Hy het baie van Daniël as persoon gedink, groot agting vir sy vermoëns as minister gehad en wou hom graag in sy diens behou. Uit vers 19-20 lei ons af dat hy groot verwagtings van die God van Daniël gekoester het, daarom het hy die nag in afsondering met vas en in angsvolle verwagting deurgebring, en vroeg in die oggend gaan kyk wat met Daniël gebeur het. Ná die verlossing van Daniël het hy nie net op hierdie geliefde man se vervolgers wraak geneem nie, maar volgens vers 26-28 vereis dat al die volke moet bewe en sidder voor die God van Daniël weens sy groot en magtige verlossingsdade.

Of hierdie respek vir God, wat hy ook op ander mense afgedwing het, genoeg was om sy siel te red, is te betwyfel. Die lewensbelangrike element van persoonlike betrokkenheid by God en ‘n oorgawe aan Hom, word nie by Darius opgemerk nie. Tóg is dit in hierdie geval veelseggend dat God sy mag en heerskappy in só ‘n mate bekend laat word het dat ‘n heidense koning dit selfs erken en daarvan getuig het. Dieselfde reël geld vir ons, want ons kan nie net lippediens aan die Here bewys en Hom net met ons mond bely nie – ons moet ‘n oorgawe aan Hom maak sodat Hy ons sonde kan vergewe en ons hart en lewe grondig verander. Ons moet ons vertroue vir die behoeftes van elke dag net in Hom stel, en Hom ons lewe lank gehoorsaam, volg en dien.

Ons het reeds daarop gewys dat Daniël vir ons ‘n skaduwee is van dit wat Jesus op aarde kom doen het. Hy was onskuldig en niemand kon ‘n geldige klag teen Hom inbring nie, maar tóg is Hy veroordeel en gekruisig. Dit het Hy gedoen sodat ons wat vandag skuldig is en die verdoemenis verdien, vrygespreek kan word en die ewige lewe kan beërf. In sy boek, God se man by halte Babilon, stel ds. Freek Swanepoel dit só: “Die diepte van sy lyding is dat Jesus deur God verlaat is, maar hierin lê juis ‘n wonderlike boodskap. Omdat Jesus van God verlate was, kon Daniël lank tevore tussen die leeus van God se teenwoordigheid bewus wees. Die vrug van Christus se lyding is dat sy kinders nooit alleen is nie, ook nie in die grootste nood en lyding nie... Hy wil jou help om in die lyding vir Hom te oorwin.”

Die lot van God se vyande

Die sondige goewerneurs in Babilon het in werklikheid vir God aangeval toe hulle sy getroue getuie, Daniël, vervolg en sy ondergang gesoek het. Hulle is summier deur die koning gevange geneem en vir die leeus gevoer. ‘n Soortgelyke situasie sal ontstaan wanneer Christus tydens sy wederkoms met sy vyande, wat onder die leiding van die Antichris en die valse profeet teen Hom sal probeer veg, in die gerig sal tree:

“En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot. En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:17-21).

Paulus sê in Hebreërs 6 dat daar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed is wat die teëstanders sal verteer. Hy sê dat God se vyande ná die koms van Christus ‘n swaarder straf sal kry as die mense in Ou Testamentiese tye, wat nie so baie lig oor God liefde, genade, en toorn oor sonde gehad het nie:

“As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here... Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:28-31).

Die wederkoms van Jesus Christus is baie naby. Ons moet die vyande van Israel én van God met onvermoeide ywer waarsku om hulle van hul verkeerde weë te bekeer, anders sal hulle in die oordele van God verdelg word. Ook moet ons, soos Daniël, vir Jerusalem bid: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” (Ps. 122:6).

As ons vir die volle herstel van Jerusalem bid, dan bid ons terselfdertyd vir die wederkoms van Israel se Messias, Jesus Christus, wat ook ons Verlosser is. Eers wanneer Hy na Jerusalem terugkeer (Sag. 14:4-5), sal die troon van Dawid in dié stad herstel word (Hand. 15:16-17). Dan sal die tye van die nasies permanent verby wees en God se koninkryk op aarde geopenbaar word met Jerusalem as hoofstad en Jesus op die troon van Dawid.

Al het dit in Daniël se tyd ook hoe onwaarskynlik gelyk dat Jerusalem herstel en herbou sou word, het Daniël op grond van die beloftes in God se Woord met volle geloofsvertroue hiervoor gebid (Jer. 25:11-12; 29:10; Dan. 9:2). Ons het nog meer beloftes oor Israel se eindtydse herstel na hulle land, en is verder bevoorreg om in ‘n tyd te leef wanneer hierdie beloftes toenemend vervul word. Bid vir die geestelike ontwaking van Israel en ook vir die koms van die Messias, sodat die heidense koninkryke verdelg kan word en Christene onder Israel én die nasies tye van verkwikking voor die aangesig van die Here kan hê wanneer sy koninkryk geopenbaar is.

 

Daniël 7. Die Gesig van die Vier Diere

In die studie van Bybelse profesieë is Daniël 7 om die volgende drie redes van groot belang: 1. Die akkuraatheid en betroubaarheid van die profetiese woord word uitgebeeld deur die feit dat ‘n groot aantal van dié profesieë reeds in detail deur vier opeenvolgende wêreldryke vervul is – dit is die Babiloniese, Medo-Persiese, Griekse en Romeinse ryke. 2. Inligting word hierin gegee wat onontbeerlik vir die verstaan van profesieë oor die Antichris en sy eindtydse wêreldryk in Openbaring 13 is. 3. Enige objektiewe Bybelstudent sal in Daniël 7 genoegsame bewyse vind dat Jesus Christus by sy wederkoms ‘n koninkryk sal instel wat nou nog nie bestaan nie, en wat beslis ‘n aardse koninkryk sal wees.

Daniël 7 loop in ‘n groot mate parallel met Daniël 2, waar daar ook van vier koninkryke gepraat word – dit is die tye van die nasies – wat by die wederkoms van Christus vernietig sal word om vir sy koninkryk plek te maak. Die groot verskil met Daniël 2 is dat ons daar ‘n beeld van die koninkryke kry soos van die mens se kant af gesien, want die goeie hoedanighede van die koninkryke word daar beskryf soos gesimboliseer deur die goud, silwer, brons en yster. In Daniël 7 sien ons egter die afskuwelike, inhalige en moorddadige aard van die aardse koninkryke, wat as bloeddorstige roofdiere beskryf word wat mekaar verskeur en onder hulle pote vertrap. Hulle geaardheid word progressief slegter na die einde toe. Só sien God hierdie koninkryke.

Inleiding tot die visioen

“In die eerste jaar van Belsasar, die koning van Babel, het Daniël ‘n droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed. Toe het hy die droom opgeskrywe, die hoofsaak vertel. Daniël het gespreek en gesê: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring; en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander” (Dan. 7:1-3).

Daniël het die visioen in die eerste jaar van Belsasar, in 553 v.C. ontvang, toe hy ongeveer 69 jaar oud was. Hierdie visioen pas dus chronologies tussen hoofstukke 4 en 5 van sy boek in. Dit word egter eers ná hoofstuk 6 aangebied, aangesien dit nie deel van die historiese vertelling van Daniël se lewe is nie. Dit is slegs ‘n visioen en lui dus die tweede helfte van die boek Daniël in, wat uit profetiese visioene bestaan.

Die begin van Belsasar se bewind was ‘n betekenisvolle tyd omdat Nebukadnésar minder as tien jaar tevore dood is, met baie politieke spanning en ‘n nuwe oplewing in afgodediens wat daarop gevolg het. Vir die Jode was dit jare van onsekerheid en vrees oor wat die toekoms vir hulle in ‘n vreemde land en onder ‘n nuwe regering ingehou het. In hierdie visioen word sake weer vir hulle in perspektief gestel, en word die ondergang van die goddelose koninkryke en die oorwinning van die koninkryk van God in die vooruitsig gestel.

Daniël sien in sy droom dat die vier winde die see in beroering bring. Die see is die rustelose volke van die wêreld (Jes. 17:12), en die vier winde is die magte wat aan die werk is om die volke in beroering te bring. Volgens Sag. 6:5 en Op. 7:1 moet ons hier dink aan die mag van God wat die “winde” beheer en gebruik om die gang van die geskiedenis te bepaal, grense aan die mag van die konings te stel en uiteindelik ook die sondige, aardse stelsel te vernietig. Uit die konflik en stryd tussen die nasies kom daar onder die beherende hand van God in die geskiedenis vier koninkryke tot stand wat elkeen besondere eienskappe vertoon.

Die vier ongediertes

“Die eerste [dier] was soos ‘n leeu, en hy het vlerke van ‘n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos ‘n mens op twee voete neergesit is en daaraan ‘n mensehart gegee is. En kyk, ‘n ander dier, ‘n tweede, het gelyk soos ‘n beer, en is aan die een kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande; en só het hulle vir hom gesê: Staan op, eet baie vleis. Daarna het ek gesien, en kyk, daar was ‘n ander een soos ‘n luiperd, en dit het vier vlerke van ‘n voël op sy rug gehad; ook het die dier vier koppe gehad, en aan hom is heerskappy gegee. Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was ‘n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad. Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ‘n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ‘n mond wat groot dinge spreek” (Dan. 7:4-8).

Die eerste dier was soos ‘n leeu en het die vlerke van ‘n arend gehad. Die leeu en die arend word telkens in die Bybel as simbole vir Nebukadnésar se ryk gebruik (vgl. Jer. 49:19,22). Uit die ruïnes van Babilon is daar ook beelde van gevleuelde leeus opgegrawe. Die res van die beskrywing in vers 4 kan slegs in verband gebring word met die ervaring wat Nebukadnésar tydens sy sewe jaar van kranksinnigheid gehad het. Sy vlerke is inderdaad geknip toe hy in die veld soos ‘n dier geleef het. Daarna is hy weer opgetel en soos ‘n mens op sy voete neergesit. Nebukadnésar het ‘n mensehart gekry nadat hy weer herstel is.

Die tweede dier was soos ‘n beer met drie ribbes in sy bek. Die een kant van die dier was opgerig. Dit dui daarop dat hierdie ryk tussen die Meders en die Perse verdeel was, en dat die Perse ‘n sterker mag as die Meders was. Die drie ribbes in die beer se bek dui waarskynlik op drie groot magte, nl. Lidië, Babel en Egipte, wat deur die Perse verower is. Hoewel die beer baie moorddadig was, word hy aangepor om op te staan en baie vleis te eet. Die grense van hierdie ryk het ook baie verder as die vorige wêreldmagte uitgekring. Die Jode het self ook met die Perse se moorddadigheid te doen gekry toe Ahasveros in Ester 3 aan Haman volmag gegee het om die Jode uit te roei.

Die derde dier was soos ‘n luiperd met vier vlerke, en hy het ook vier koppe gehad. ‘n Luiperd is ‘n vinnige dier, en as dit nog vier vlerke het, word sy spoed verder beklemtoon. Hierdie simboliek pas die Griekse wêreldryk uitstekend. Binne agt jaar het Alexander die Grote ‘n gebied verower wat van Griekeland in die weste tot by Indië in die ooste gestrek het. Ná Alexander se dood in 323 v.C. op 32-jarige ouderdom, is sy ryk onder vier van sy generaals verdeel – vandaar die vier koppe van die luiperd.

Die vierde dier het nie ‘n naam nie, want hy is té skrikwekkend om met enige bekende dier vergelyk te word. Om dié rede word daar gesê dat hy anders as die ander was – hy was baie meer wreedaardig en het ‘n paar eienaardighede vertoon, soos die tien horings op sy kop en die klein horinkie wat uit die tien horings te voorskyn kom. Hierdie dier beeld die Romeinse ryk uit. Uit die geskiedenis weet ons dat Rome se mag op ‘n uiters gewelddadige wyse uitgebrei is. Dit was die eerste koninkryk wat daarin kon slaag om die verowerde gebiede te konsolideer en by een groot magstruktuur in te skakel. Die Romeinse ryk het van al die wêreldryke verreweg die langste in stand gebly.

Hierdie dier se tande van yster herinner ons ook aan die beeld in Daniël 2 wat bene van yster gehad het, waardeur die Romeinse ryk uitgebeeld is. Die tien horings stem met die tien tone van die dier ooreen, en dui op tien provinsies van die Romeinse ryk. Uit die tien horings kom daar dan ‘n klein horinkie op, en dit dui op die Antichris wat uit die herleefde Romeinse ryk van die eindtyd sal voortkom. Van hierdie horinkie word gesê dat hy ‘n mond en mensoë het. Hoewel hy dus dierlik in wese is omdat hy uit ‘n dier groei, sal hy tóg ook ‘n mens wees. Oë dui op insig en intelligensie, en die mond op sy grootpratery en godslastering (Dan. 7:25; Op 13:5).

Die feit dat die Romeinse ryk nooit deur ‘n ander wêreldryk verower en onderwerp is nie, verklaar die feit waarom daar sedert Nebukadnésar net vier wêreldryke beskryf word. Hoewel die Romeinse ryk as ‘n politieke entiteit in die vyfde eeu n.C. opgehou bestaan het, het die invloed van Europa deur die eeue heen voortgeduur en is groot dele van die wêreld deur Europese moondhede gekoloniseer. In die eindtyd sal die ou Romeinse ryk met sy sterk Europese basis herleef en weer ‘n politieke magsblok word. Dit is reeds besig om te gebeur. Wanneer die Europese Parlement sterk gevestig is, sal die Antichris binne die grense van die ou Romeinse ryk na vore tree en drie van dié ryk se provinsies onder sy eie mag konsolideer.

Dit is verder ook betekenisvol dat die Romeinse ryk beheer oor die gebiede van die vorige drie wêreldryke verkry het, nl. Die Babiloniese, Medo-Persiese en Griekse ryke, dus sal die herlewing van die Romeinse ryk terselfdertyd ook ‘n herlewing van al daardie ander wêreldryke wees. Alles dui daarop dat die Antichris se toekomstige wêreldregering uit die Midde-Ooste beheer sal word, uit ‘n gebied wat deel van al vier die vorige wêreldryke was.

Die koninkryk van Christus en sy heiliges

Daniël sê: “Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur; ‘n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tien duisend maal tien duisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen. Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is. Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur. Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie” (Dan. 7:9-14).

Die toneel wat hier beskryf word, is nie die eindoordeel nie, al is daar sommige elemente soos die trone en die boeke wat geopen word, wat daaraan herinner. Hier is geen sprake van individuele gelowiges wat die ewige doodstraf opgelê word, soos wat die geval in Openbaring 20:11-15 is nie. Hier gaan dit om die oordeel oor die koninkryke soos deur die vier diere uitgebeeld, en veral die oordeel oor die Antichris en sy magte (7:11). As ons dit met Openbaring vergelyk, vind ons ‘n parallelle gebeurtenis in Openbaring 19:19-20, waar die dier en sy volgelinge tydens Christus se wederkoms deur Hom veroordeel sal word.

Die Oue van dae wat op die troon gaan sit, is ‘n beskrywing van God. Jesaja sê Hy is “die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon” (Jes. 57:15). Sy troon was vuurvlamme en dit dui op sy oordeel en wraak oor sondaars. Deel van hierdie toneel van oordeel was die koms van die Seun van die mens, wat ‘n verwysing na die Messias, Jesus Christus, is. Dit is die eerste profesie oor Hom waarin hierdie titel gebruik word. Die koningskap en oordeel is aan Hom oorgegee, soos in 1 Korinthiërs 15:24-28 bevestig word. By Christus se tweede koms, wanneer God se oordele voltrek en Christus se koninkryk geopenbaar sal word, sal Hy as Koning en Regter kom. Tydens sy eerste koms het Hy as ‘n nederige dienskneg gekom om aan die kruis vir die sondes van die hele wêreld te sterf (Fil. 2:5-8).

Betekenis van die visioen

“Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik. Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en van hom sekerheid gevra oor dit alles; en hy het dit vir my gesê en die uitlegging van die dinge aan my bekend gemaak: Hierdie groot diere wat vier is – vier konings sal uit die aarde opstaan; en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid. Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier wat van al die ander verskillend was, buitengewoon vreeslik, met ystertande en met koperkloue, wat verslind, vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap het, en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander een wat opgekom het en waarvoor drie geval het, naamlik hierdie horing wat oë en ‘n mond gehad het wat groot dinge gespreek het, terwyl sy gestalte groter was as van die ander. Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin, totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het. Só het hy gesê: Die vierde dier – die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel. En die tien horings – uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en ‘n ander een sal ná hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp. En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd. Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig. Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees. Hier is die einde van die saak. Wat my, Daniël, betref, my gedagtes het my baie verskrik en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my hart bewaar” (Dan. 7:15-28).

Daniël was baie ontsteld oor al hierdie dinge. Hy was veral begaan oor die vierde dier, waarvan die ekstra horing op sy kop oorlog teen die heiliges gevoer en hulle oorwin het (7:21). Hy was altyd ‘n man van God wie se belang by die heil van sy volk en die kinders van God was. Die versekering word aan hom gegee dat nadat hierdie vier diere regeer en hulle verwoestingswerk gedoen het, die koninkryk deur die heiliges in besit geneem sal word. In Nuwe Testamentiese tye bestaan die heiliges uit twee groepe, naamlik Messiaanse Jode en gelowiges uit die nasies wat die Here Jesus as hulle Saligmaker aangeneem het.

Verskeie aspekte van die Antichris se optrede in die herstelde Romeinse ryk van die eindtyd word genoem. Volgens Daniël 7:20 sal hy homself verhef en groot dinge spreek. Johannes sê: “’n Mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek” (Op. 13:5). Hy sal oorlog voer teen die heiliges en hulle oorwin (Dan. 7:21). Openbaring 13:7 sê: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke taal en stam en nasie.” Die Antichris sal dit doen omdat hy God haat en alle mense wat God liefhet en aanbid, wil verdelg. Hy sal onbeteuelde woede-uitbarstings hê en dan vir God en die heiliges vervloek. Volgens Daniël 7:25 sal hy woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges mishandel. Openbaring 13:6 sê: “Hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God.”

Daar sal egter ‘n skielike einde aan die Antichris se regering kom: “Die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig” (Dan. 7:26). “Hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45). Volgens Johannes sal hy en sy mede-regeerder lewendig in die poel van vuur gegooi word, en sy volgelinge sal gedood word deur woorde van oordeel wat Christus tydens sy wederkoms sal uitspreek (Op. 19:19-21). Dit is wat sal gebeur wanneer die klip wat in Daniël beskryf word, deur die toedoen van God die beeld van menslike regerings sal tref en dit permanent vernietig.

Wanneer Christus saam met sy heiliges beheer oor die wêreld oorneem, sal die tydperk waarin goddelose mense met Satan as aanvoerder in leierskapsposisies was, vir altyd verby sal wees. Ons word nou nog uit die teenwoordige bose wêreld verlos (Gal. 1:4), maar daar kom ‘n tyd wanneer die heiliges die koninkryk in besit sal neem en die aarde sal beërf. Dan sal die aarde vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Jes. 11:9). Die groot eindtydse wêreldleier van die koninkryk van die duisternis, die Antichris, sal verdelg wees (Op. 19:19-20) en Satan in ‘n bodemlose put gebind wees (Op. 20:1-3).

Die koninkryk van die heiliges wat in Daniël 7 verse 14, 18, 22 en 27 genoem word, word in Openbaring 20:4-6 as die duisendjarige vrederyk van Christus beskryf. Daniël 7 sê dat hierdie koninkryk nie, soos die ander koninkryke, omver gewerp sal word nie, maar vir ewig sal voortbestaan. Waarom sê Johannes dan in Openbaring dat dit net vir ‘n duisend jaar sal bestaan? Aan die einde van die duisendjarige vrederyk sal Christus die koninkryk aan God die vader oorgee (1 Kor. 15:24). Dit beteken nie dat sy koninkryk beëindig sal word nie, maar in ‘n ander vorm vir altyd op die nuwe aarde voortgesit sal word. Ná die duisend jaar sal die huidige aarde verbrand word en sal daar dan ‘n nuwe hemel en aarde geskep word waarin geregtigheid sal woon. “Daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam” (Op. 21:27).

Daniël was verskrik toe hy hierdie visioen gehad het, maar hy het die saak in sy hart bewaar. Ons behoort vandag soveel te meer verskrik te wees oor die omvang van gebeurtenisse wat vir die wêreld voor die deur is. Soos vir Daniël, moet dit nie vir ons net om ons eie heil en verlossing gaan nie. Die Here Jesus het beloof om sy getroue dissipels te kom haal sodat hulle die groot oordele van die eindtyd kan ontvlug. Ons harte moet egter uitgaan na ons ongeredde familielede, vriende, bure, kollegas, volksgenote en die lede van ander volke in ons land. Is hulle gewaarsku en ken hulle die weg van verlossing? Wat is hulle lot? “Wat my, Daniël, betref, my gedagtes het my baie verskrik en my gelaatskleur het verander.” Ons moet werklik in benoudheid wees oor die aaklige lot van die sondaars. Almal wat in die Here Jesus glo en Hom as Verlosser aangeneem het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe (Joh. 5:24).

 

Daniël 8. Die Antichris in die Griekse Ryk

Twee jaar nadat Daniël die visioen van die vier diere gehad het wat in Hoofstuk 7 beskryf is, het hy weer ‘n visioen gehad. Die saak wat eerste opval, is dat Daniël van hierdie hoofstuk af weer in Hebreeus skryf, die taal van die Israeliete, in teenstelling met die wêreldtaal, Aramees, wat van hoofstuk 2 tot 7 gebruik is. Daniël skryf dus van nou af meer spesifiek vir sy eie volksgenote. In die vorige hoofstukke het dit om die regeerders van die aarde en die uiteindelike regering van die Antichris gegaan, terwyl ons van hierdie hoofstuk af veral met die lotgevalle van Israel te doen het, te midde van die magstryd wat in die wêreld aan die gang is.

In die visioen sien Daniël homself in die paleis van die koninklike vestingstad Susan, meer as 300 kilometer oos van Babilon in Persië, teenaan die Ulairivier wat in die Tigris inloop. Dit was een van die koninklike stede van Persië. Die rede hiervoor is omdat die visioen oor die toekomstige regering van die Meders en Perse handel. ‘n Eeu later het die Persiese koning, Artasásta, ‘n groot paleis hier gebou. Dit is waar die gebeure wat in die boek Ester beskryf is, afgespeel het (vgl. Ester 1:2).

Die skaap- en bokram

Daniël skryf: “En ek het my oë opgeslaan en gesien, en kyk, daar staan ‘n ram voor die rivier; en hy het twee horings gehad, en die twee horings was hoog, ook was die een hoër as die ander, en die hoogste het laaste uitgekom. Ek het die ram sien stoot na die weste en na die noorde en na die suide, en al die diere kon voor hom nie standhou nie, en daar was niemand wat uit sy mag gered het nie; maar hy het gedoen net wat hy wou, en het magtig geword. Terwyl ek daarop ag gee, kom daar ‘n bokram uit die weste aan oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om aan die grond te raak; en die bok het ‘n aansienlike horing tussen sy oë gehad. En hy het na die ram met die twee horings aangekom wat ek voor die rivier sien staan het, en hom in die woede van sy krag stormgeloop. En ek het hom gesien hoe hy tot by die ram kom en op hom verbitterd word en die ram stoot en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie, sodat hy hom teen die grond gegooi en hom vertrap het, en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie. En die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die vier windstreke van die hemel” (Dan. 8:3-8).

Die verklaring van die ram en die bok wat Daniël in sy visioen gesien het, word ook aan hom verskaf: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse. En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning. En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het – vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie” (Dan. 8:20-22).

Die ram stel dus die Medo-Persiese ryk voor. Hy het twee horings gehad, waarvan die hoogste een laaste uitgekom het. Medië was reeds in die tyd van die Babiloniese ryk ‘n groot mag, want hulle het Babilonië in 612 v.C. gehelp om Sirië te onderwerp. Persië was in daardie stadium ‘n kleiner land in die suide. Nadat Kores egter in Persië aan bewind gekom het, het hy ook beheer oor Medië verkry en die grootste mag in die Medo-Persiese ryk geword.

Hierna het die ram sy horings na die weste gestoot toe Darius en Kores vir Babilon, Mesopotamië, Sirië en Klein Asië verower het. In die noorde is Armenië en die volke langs die Kaspiese See verower. In die suide is Judéa, Egipte, Libië en Ethiopië tot die lys van hierdie ryk se veroweringstogte toegevoeg. Die profesieë oor die Medo-Persiese ryk is met verbasende akkuraatheid vervul, daarom moet ons ook die letterlike vervulling van alle eindtydse profesieë verwag wat nog onvervuld is.

In vers 5 sien Daniël ‘n bokram wat met ‘n groot spoed uit die weste aankom. Die koning van Griekeland, Alexander die Grote, is die een aansienlike horing wat hy tussen sy oë gehad het. Die geskiedenis leer ons dat Alexander se aanvalsmag kleiner as dié van die Perse was, maar hulle was baie beweeglik en hoogs doeltreffend. Hulle het die magte van Darius, die Pers, in drie veldslae verslaan.

Daniël sê dat toe die bok sterk was, die groot horing afgebreek het (Dan. 8:8). Alexander die Grote het nie eers ná sy groot oorwinnings oor Medo-Persië teruggekeer huis toe nie, en is op 32-jarige ouderdom in die omgewing van Babilon aan malaria dood, asook komplikasies as gevolg van alkoholisme. Sy ryk is tussen vier van sy generaals verdeel: Cessander het oor Griekeland en Macedonië regeer, Lysimachus  het Tracië en Bitinië gekry, Ptolemeus is oor Egipte aangestel en Seleusus het beheer oor Sirië gekry.

Die klein horinkie teen die Pragtige Land

Uit een van die vier horings van die bok het daar ‘n klein horinkie opgekom wat tot groot onheil vir Israel was. Daniël sê:

“En uit een van dié het ‘n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe. En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap. Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is. En ‘n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad. Toe hoor ek ‘n heilige spreek; en ‘n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur – van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid – sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word? En hy het vir my gesê: Twee duisend drie honderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word” (Dan. 8:9-14).

Uit een van die vier magsgebiede van die Grieke kom ‘n koning te voorskyn wat die volk van God op ‘n wreedaardige wyse sou teister. Vandag is dit ‘n bekende feit dat slegs Antiochus Epifanes aan al die beskrywings voldoen wat hier gegee word. Hy was die agtste heerser in die magsgebied van Seleusus, en het inderdaad klein begin omdat hy nie die wettige troonopvolger was nie, maar die mag op ‘n slinkse wyse ingepalm het deur sy broer te vermoor en in 175 v.C. in sy plek op te volg. Daarna het hy baie sterk geword en in ‘n reeks veroweringstogte sy magsgebied uitgebrei. Wat veral hier van belang is, is sy magsuitbreiding in die Pragtige Land, naamlik Israel. Dit sluit ook by Daniël 11:16 en 46 aan.

Israel het in die pad gelê van Antiochus se militêre veldtogte teen Egipte, en is in die proses dikwels aangeval en baie van die inwoners om die lewe gebring. Die leër van die hemel teen wie Antiochus geveg het, dui op Israel. Die Here het vir Abraham gesê dat sy nageslag soos die sterre van die hemel sal wees (Gen. 15:5; 22:17). Hy het ook teen die vors van dié leër geveg, naamlik God, deurdat hy die offers aan Hom verbied het. Epifanes beteken Skitterend en dui op Antiochus se hoogmoed en begeerte om self as God aanbid te word.

Antiochus het in ‘n tydperk van bykans sewe jaar groot verwoestingswerk in Israel gedoen. Hy het die tempel in Jerusalem verontreinig deur varke daar te offer en het ook die Jode gedwing om varkvleis te eet en onrein offers te bring. Verpligte afgodediens is ingevoer en mense is gedwing om alle kopieë van die Wet van die Here (die Torah) op te skeur of te verbrand. Hy het die besnydenis verbied en ouers laat teregstel wat hulle kinders besny het. Baie van hulle is van die stadsmure afgegooi. Hy het die tempel geplunder en die goue en silwer voorwerpe buitgemaak. Hy het ook die stad gedeeltelik verwoes, baie mense doodgemaak en sommige in gevangenskap weggevoer. In die plattelandse gebiede het hy mense se vee geroof.

Die 2300 aande en môres waarin die tempel ontheilig sou wees, is letterlik gedurende die bewind van Antiochus Epifanes vervul. Dit is ‘n tydperk van ‘n bietjie meer as ses jaar. Hierdie tydperk was waarskynlik tussen Antiochus se eerste inval in Jerusalem in  in 170 v.C. en die herstel van die tempel deur Johannes Makkabeër op 25 Desember 164 v.C. Hierdie profesie is dus letterlik vervul.

Reaksie van Daniël

“En toe ek, Daniël, die gesig gesien het, het ek probeer om dit te verstaan, en kyk, daar het iemand voor my gestaan wat soos ‘n man gelyk het. En ek het ‘n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en gesê het: Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan! Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde. En terwyl hy met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond geval; toe het hy my aangeroer en my op my staanplek opgerig en gesê: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde” (Dan. 8:15-19).

Die reaksie van Daniël terwyl die engel nader gestaan het om die visioen aan hom uit te lê, is nog hewiger as wat ons aan die einde van Hoofstuk 7 gesien het. Die rede hiervoor is omdat die gesig van ‘n strafgerig oor sy eie volk gaan, en ook oor die ontheiliging van die tempel en van God se Naam. God is heilig en geen sweem van kwaad, ongeloof en ongehoorsaamheid kan voor Hom verskyn nie. Jesus Christus het wel volkome die prys aan die kruis betaal sodat ons sonder smet voor God kan verskyn, maar alte dikwels vergeet mense dat die toegang tot hierdie wonderbare vergifnis langs die weg van ‘n hartgrondige skuldbelydenis en verootmoediging voor die heilige God kom. Daar is vandag te veel kerkmense wat hulleself Christene noem, maar wat geen begrip het van wat dit beteken om by die kruis van die Here Jesus van jou sondelas verlos te word, en aan die oue mens van sonde te sterf nie (Heb. 4:12-13; Rom. 6:6).

Eindtydse toepassing

Die engel Gabriël het duidelik aan Daniël gesê dat die gesig ook ‘n eindtydse toepassing het: “...die gesig sien op die tyd van die einde... Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde” (Dan. 8:17,19). In die lig van hierdie duidelike uitspraak moet ons nie die fout maak om die profesieë in Daniël 8 net tot die Medo-Persiese en Griekse ryke van die Ou Testament te beperk nie, want dit dui beslis ook op die tyd van die einde.

Gabriël toon hierdeur aan Daniël wat aan die einde van die strafgerigte met Israel sal gebeur. Dr. Renald Showers het ‘n studie van die woord “strafgerig” gemaak waar dit in die Bybel in verband met Israel gebruik word, en tot die slotsom gekom dat dit op die ganse tydperk van wêreldse regering dui, soos in Daniël 2 en 7 uitgebeeld, waartydens Israel deur verskeie volke onderdruk word. Dit is van die Babiloniese ballingskap af tot met die wederkoms van die Messias. Ons weet in elk geval dat die einde van die strafgerigte oor Israel sal aanbreek wanneer die volk by die wederkoms, soos in Sagaria 12:10 en 13:8-9 beskryf, deur die smeltkroes geneem is en Jesus as hulle Messias en Here aangeneem het.

Die toorn van God oor Israel én die nasies se sonde sal op die bewind van die Antichris en God se oordele gedurende daardie tyd uitloop. In die lig hiervan moet ons weer na die geskiedenis van Antiochus Epifanes gaan kyk, want hy word as die groot tipe of voorloper van die Antichris voorgehou. Ons weet egter dat die bewind van die Antichris in intensiteit baie erger as dié van Antiochus sal wees, “want daar sal groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21).

Die tipologie van Antiochus as ‘n voorloper van die eindtydse Antichris word baie duidelik aan die einde van hierdie hoofstuk gestel: “Maar aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak het, sal ‘n koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan. En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie; en hy sal buitengewoon baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer; en hy sal magtiges vernietig en ook die volk van die heiliges. En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word” (Dan. 8:23-25).

Uit die een horing van die bok, wat die Siriese provinsie van die verdeelde Griekse ryk is, het ‘n klein horinkie opgekom wat ‘n eerste vervulling in Antiochus Epifanes gehad het, maar sy finale vervulling in die Antichris sal hê. Vers 23 stel die saak bo enige twyfel: “Aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak het, sal ‘n koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan.” Die heidense nasies se heerskappy moet eers tot ‘n einde kom. In die beslissende  laaste fase sal hulle die maat van hulle goddeloosheid teenoor die Here én sy volk Israel, asook Nuwe Testamentiese gelowiges, vol maak. In daardie tyd sal daar ‘n koning optree wat hard en ongenaakbaar teenoor al sy teëstanders is. Dit sal die Antichris wees.

Verskeie van sy eienskappe word in vers 23 tot 25 genoem. Hy sal groot mag verkry deur ander volke te onderwerp. Hy sal slim en oorredend wees en aan mense ‘n valse vrede bied. Hy sal deur ‘n ander mag beheer word, want hy sal sterk word, maar nie deur sy eie krag nie. Volgens Openbaring 13:2 sal Satan aan hom sy krag gee en sy troon en groot mag. Omdat Satan die owerste van hierdie verdorwe wêreld is (Joh. 14:30), is ons geestelike worstelstryd teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu (Ef. 6:12). In ‘n stadium sal Satan sy groot mag as wêreldheerser aan die Antichris oordra. Een van sy spesiale teikens sal die volk Israel wees, omdat hy weet dat die Here Jesus ‘n oorblyfsel in Israel tydens sy wederkoms sal red en dan die wêreld uit Jerusalem sal regeer.

Die Antichris sal ook teen die Vors van die vorste optree, wat Jesus Christus as die Koning van die konings is. Dit sal die grootste fout wees wat hy ooit kon begaan, want hy sal sonder die toedoen van mensehande verbreek word. Die geleentheid wanneer hy teen die Vors van die vorste sal optree, sal by die slag van Armageddon tydens Christus se wederkoms wees. Johannes sê: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit en teen sy leër” (Op. 19:19).

Die goddelose wêreldkoninkryke wat sedert die Babiloniese ballingskap van Israel beheer oor die nasies uitgevoer en hulle stempel op wêreldgebeure afgedruk het, sal in die tyd van die einde ‘n baie groot aanslag teen Christus en sy koninkryk loods. Hulle sal probeer voorkom dat God sy koninkryk ten koste van hulle sigbaar op aarde openbaar, met Israel as die leidende nasie in die wêreld. Wanneer die laaste jaarweek van Israel se heilsgeskiedenis voor die koms van die Messias sy einde nader, sal demone uitgestuur word om alle regeringsleiers op te sweep om hulle magte na Israel te stuur om teen die komende Messias te veg. Johannes sê:

“En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God... En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon” (Op. 16:13-16).

In hierdie groot eindstryd sal die Antichris en die valse profeet lewendig in die poel van vuur gegooi en die wêreldse magte wat saam met hulle na Jerusalem opgetrek het, deur Christus verdelg word. Dan sal die tye van die nasies verby wees en die geredde Israel, asook die kerk van Christus, vir altyd saam met Hom regeer. In Jeremia 30:11 sê die Here vir Israel: “Ek sal ‘n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het, maar aan jou sal Ek geen einde maak nie.”

‘n Verdere afleiding wat ons uit Daniël 8 se profesieë moet maak, is dat die klein horinkie wat uit die Siriese provinsie van die Griekse ryk opkom, waaraan sowel Antiochus Epifanes as die Antichris se optrede gekoppel word, ‘n duidelike boodskap bevat dat die eindtydse koning wat beheer oor die goddelose nasies sal verkry, binne die raamwerk van die Griekse wêreldryk geopenbaar sal word en tot ‘n magsposisie uitstyg. In Daniël 11 word dieselfde diktator “die koning van die noorde” genoem, wat spesifiek na die Siriese provinsie se leier verwys.

Die fout moet dus nie gemaak word om te beweer dat die Antichris uit Wes-Europa sal kom, bv. uit Italië, Engeland of Frankryk nie. Die Griekse ryk het nie hierdie lande beheer nie. Die Antichris sal in die Midde-Ooste opstaan uit ‘n land wat deel van die ou Siriese provinsie was, met ander woorde uit die huidige Sirië of Irak. Die feit dat die Antichris in Daniël 7 as komende uit een van die tien provinsies van die Romeinse ryk voorgestel word, verplig ons om na die Siriese provinsie van die Romeinse ryk as die oorsprong van hierdie diktator te kyk, omdat dit met dieselfde provinsie in die Griekse ryk ooreenstem.

Hierdie dramatiese openbarings het ‘n groot impak op Daniël gehad. Hy sê: “En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie” (Dan. 8:27). Hy was totaal oorweldig en uitgeput deur hierdie openbaring, en kon verskeie dae lank nie met sy werk voortgaan nie. Hoe tree jy en ek op in die lig van die feit dat daar ‘n groot verdrukking kom soos wat daar nog nooit op aarde was nie en ook nooit daarna sal wees nie? (Matt. 24:21). Genadetyd is besig om uit te loop, en aanstons sal die Here, soos in die tyd van Noag en Lot, die ware gelowiges na ‘n veilige plek in die hemel neem voordat die toorn van God oor die sondaars uitgestort word (Luk. 21:36).

 

Daniël 9(a). Daniël se Gebed vir Israel

Daniël 9 handel oor voorbidding vir die fisiese en geestelike herstel van Israel, en eindig met een van die mees merkwaardige profesieë oor die toekoms van Israel, naamlik dié oor die sewentig jaarweke. In hierdie hoofstuk sal ons net op die noodsaaklikheid van voorbidding vir Israel let, asook op beloftes oor hulle fisiese én geestelike herstel. In die volgende hoofstuk sal ons na die sewentig jaarweke kyk, waarin die toekoms van die volk Israel, die kruisiging van Christus, die regering van die Antichris en die bedeling van ewige geregtigheid voorspel word.

Hierdie hoofstuk word só ingelui: “In die eerste jaar van Darius, die seun van Ahasveros, uit die geslag van die Meders, wat koning gemaak was oor die koninkryk van die Chaldeërs, in die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die Here tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was” (Dan. 9:1-2).

Anders as baie mense vandag, het Daniël in die letterlike vervulling van Bybelse profesieë geglo. In Jeremia sê die Here die volgende oor Israel se herstel ná die Babiloniese ballingskap: “En hierdie hele land sal ‘n puinhoop, ‘n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien. En as sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die Here, hulle ongeregtigheid besoek, en oor die land van die Chaldeërs, en sal dit ewige wildernisse maak” (Jer. 25:11-12).

Dieselfde versekering word later herhaal met vermelding van die hoopvolle toekoms wat die Here aan sy volk bied: “Want so sê die Here: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister” (Jer. 29:10-12).

In die lig van hierdie duidelike beloftes het Daniël voorbidding vir sy volk in ballingskap gedoen, steeds met sy venster oop in die rigting van Jerusalem. Die gebedslewe van Daniël was ‘n groot probleem vir sy heidense kollegas, want hulle het besef dat hy ‘n man van God was wat tot die lewende God gebid het om in die lotgevalle van sy volk Israel in te gryp. In Daniël 6 word vertel hoe hulle onder die aanstigting van Satan ‘n komplot teen Daniël gesmee het om op te hou om tot sy God te bid, en hoe hierdie sameswering vir Daniël in die leeukuil laat beland het. Die Here het Daniël egter uitgered nét soos wat Hy ook sy volk uit die heidense oorheersing verlos het.

Daniël se gebed

Daniël skryf self oor sy gebed: “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. En ek het tot die Here my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk. En ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie. Aan U, Here, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming van die aangesig soos dit vandag is, aan die manne van Juda en aan die inwoners van Jerusalem en aan die hele Israel, die wat naby en die wat ver is in al die lande waarheen U hulle verdryf het, oor hulle ontrou wat hulle teen U begaan het. Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het. By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing, want ons het teen Hom opgestaan en na die stem van die Here onse God nie geluister om te wandel in sy wette wat Hy ons deur die diens van sy knegte, die profete, voorgehou het nie. Maar die hele Israel het u wet oortree en afgewyk deurdat hulle nie na u stem geluister het nie; daarom is die vloek en die eed oor ons uitgestort wat geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, want ons het teen Hom gesondig. En Hy het sy woorde in vervulling laat gaan wat Hy oor ons gespreek het en oor ons rigters wat ons bestuur het, deur groot onheil oor ons te bring wat onder die ganse hemel nie gebeur het soos in Jerusalem nie; soos in die wet van Moses geskrywe is – al hierdie onheil het oor ons gekom, en ons het die aangesig van die Here onse God nie om genade gesmeek deur ons te bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op u waarheid nie. Daarom was die Here wakker oor die onheil, om dit oor ons te bring; want die Here onse God is regverdig by al sy werke wat Hy doen, maar ons het nie na sy stem geluister nie. Nou dan, o Here onse God wat u volk uit Egipteland met ‘n sterke hand uitgelei en vir U ‘n Naam gemaak het soos dit vandag is, ons het gesondig, ons was goddeloos. o Here, laat tog volgens al u geregtigheid u toorn en u grimmigheid van u stad Jerusalem, u heilige berg, afgewend word, want om ons sondes en die ongeregtighede van ons vaders ontwil is Jerusalem en u volk ‘n voorwerp van versmading vir almal rondom ons. Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê. Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid. Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep. Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die Here my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God, terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, ‘n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer. En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee. By die begin van jou smekinge het ‘n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is ‘n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig” (Dan. 9:3-23).

Daniël se gebed vertoon die volgende kenmerke:

Hy bid in antwoord en uit reaksie op die Woord van God wat tot hom gekom het. Hy het opgemerk dat die 70 jaar van die ballingskap amper verstreke was, soos bereken sedert sy eie wegvoering in 605 v.C., en hy herinner God nou aan sy talle beloftes van herstel. Hoewel God se raadsplan vas en seker is en lank vooruit bepaal is, wil Hy sy gelowige kinders deur gebed deel van die uitvoering van sy raadsplan maak. Sodoende word die geloof in hulle eie harte versterk dat die Here ‘n waarmaker van sy beloftes is, en kan hulle ook ander mense se aandag op die groot dade van die Here se reddende genade vestig. Die beloftes in God se Woord het Daniël tot gebed opgewek.

Daniël bid Godgesentreerd. Die hoogheilige naam van God, naamlik Jahweh, kom sewe keer in hierdie hoofstuk voor, maar nêrens elders in die boek Daniël nie. Deur hierdie naam word die lof en almag van God verkondig, en in die besonder word Hy as die ewige Verbondsgod aangespreek wat aan al sy beloftes getrou bly. Hoewel die volk in ‘n benoude toestand verkeer en naarstiglik na hulle redding uit die ballingskap uitgesien het, tref ons baie min daarvan in die gebed aan. In ons gebede moet dit nie in die eerste plek om óns behoeftes gaan nie, maar om die eer van God wat hoog gehou moet word. Selfs aan die einde van sy gebed waar Daniël die werklike nood en bede van sy volk na vore bring, stel hy dit telkens duidelik dat al hierdie dinge met die oog op die eer van God gevra word: “Laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê” (9:17). “Vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep” (9:19).

Sy gebed is ‘n uitdrukking van sy persoonlike verhouding met God. “Ek het tot die Here my God gebid en belydenis gedoen” (9:4). Ook sê hy: “Neig u oor, my God, en hoor” (9:18). Hoewel Daniël in dié besondere gebed eintlik belydenis van sy volk se sondes doen, kom sy persoonlike verhouding met die Here tóg duidelik na vore. Om Christen te wees, beteken nie om kerk toe te gaan of net in die bestaan van God te glo nie, maar om ‘n persoonlike verhouding met die lewende Christus te hê. Die Here Jesus het na die aarde gekom en aan ‘n kruis gesterf om die afstand tussen God en die mens te oorbrug, en deur sy Heilige Gees elke oomblik in ons te woon. Is u elke oomblik van die heerlike teenwoordigheid van God bewus?

Daniël doen in die gebed belydenis van sy sonde. Ons kan wel sê dat dit in hierdie gebed meer oor die volk se sondes gaan, maar tóg is dit duidelik dat Daniël deurgaans homself insluit. In vers 20 word dit pertinent gestel dat hy sý sonde én die sonde van sy volk bely. Selfs by Daniël, wat so ‘n groot geloofsheld was, word gesê dat hy sonde gehad het om te bely. Lees maar die verhale van meer resente geloofshelde, en die een waarheid sal altyd na vore kom: hoe heiliger ‘n mens is en hoe nader jy aan God kom, hoe meer word jy van jou onwaardigheid en sonde bewus. Is u op hierdie oomblik bereid om die deursoekende ligglans van God se geregtigheid op u lewe te laat skyn om dit op die proef te stel? Dit is beslis nie maklik nie, want die natuurlike mens soek na mag, eer en rykdom. Dit vra baie van ons om te kan sê: “Here, ek het gesondig!” Ons hoop is nie daarin geleë om onsself te verontskuldig, te regverdig en met ons geregtigheid te spog nie, maar om in nederigheid ons skuld en onwaardigheid voor die Here te bely en op grond van sy beloftes te pleit dat Hy ons sal reinig (1 Joh. 1:9). Hierdie is die ligkant van skuldbelydenis, want dit gaan nie oor skielike en onoplosbare skuldgevoelens nie, maar oor die vaste wete dat God genadig is en sal vergewe. Daniël het op grond van God se groot barmhartigheid gebid.

Die Here verhoor opregte gebede. Wanneer ons nie uit selfsugtige motiewe bid, of slegs in ‘n noodsituasie nie, maar ter wille van die eer van die Here en die redding van mense, dan sal Hy ons verhoor. Reg aan die begin van Daniël se gebed word die engel reeds met ‘n boodskap gestuur om die antwoord op Daniël se gebed aan hom oor te dra. Dit was ‘n bietjie anders as wat Daniël verwag het. Vir hom het dit om die onmiddellike behoefte van die volk gegaan om uit hulle ballingskap verlos te word, maar vir God het dit om die totale en uiteindelike herstel van sy volk gegaan “om die ongeregtigheid te versoen en ewige geregtigheid aan te bring” (Dan 9:24). Ons moet ook nooit afgeskrik word as ons gebede nie verhoor word soos ons dit graag wou gehad het nie. God weet oneindig beter, en eendag sal ons besef dat al moes ons ook tydelik deur ‘n groot beproewing gaan soos wat Israel in ballingskap moes gaan, die Here net die beste vir ons beskik het. Kom ons bid altyd vir die eer van die Here, die redding van siele en die vervulling van die Here se wil met ons lewens.

Eindtydse toepassing

Ons is in ‘n situasie wat baie soortgelyk aan dié van Daniël is. Die heidense koninkryke is in beroering – hulle is vyandig teenoor Israel, hulle beveg mekaar omdat hulle in ‘n bitter magstryd om wêreldleierskap gewikkel is, en hulle is ook in ‘n verdiepende stryd teen die God van die Bybel gewikkel. Hulle minag of vervolg almal wat op die handhawing en eerbiediging van sy Woord aandring. Hulle steur hulleself ook nie aan die godgegewe mandaat van Israel oor hulle eie land nie, net soos wat die wêreldmoondhede in Daniël se tyd nie gehuiwer het om die Jode as ballinge uit hulle eie land weg te voer nie.

Daniël het besef dat net ‘n ingryping deur die Here hierdie situasie sou kon verander. Hy het ook besef dat God nie sonder rede toegelaat het dat sy volk uit hulle Bybelse erfdeel verdryf en onder ‘n vreemde juk geplaas is nie. Hulle het self die Here se Woord geminag en nagelaat om in sy weë te wandel, daarom het Hy swaar beproewings oor hulle gestuur. Daniël begin dus in sy gebede by persoonlike verootmoediging en sondebelydenis voor die Here, en gaan dan voort om ook vir sy volk in te tree, hulle sondes te bely en by God om genade vir hulle fisiese én geestelike herstel in te tree. Hy het homself in die geloof op God se beloftes oor Israel se herstel uit die Babiloniese ballingskap beroep, en met vaste vertroue om die vervulling van Bybelse profesieë gebid.

Ons is bevoorreg om in ‘n tyd te leef kort voordat Daniël se profesieë oor God se eindtydse oordele oor die nasies met die oog op die openbaring van sy eie koninkryk van geregtigheid op aarde uitgestort gaan word. Die groot teken dat ons in die eindtyd is, is die herstel van Israel in hulle eie land. Die Here Jesus het in sy profetiese rede gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Jerusalem is in 1967 deur moderne Israel van Jordaniese beheer bevry en in 1980 tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar. Toe het die stad vir die eerste keer weer die status verkry wat dit voor die Babiloniese ballingskap gehad het, naamlik die hoofstad van ‘n onafhanklike volk van Israel, wat nie onder die beheer van enige wêreldmoondheid is nie. Die ster van Dawid het oor die stad gewapper om die sekere boodskap te verkondig dat die tyd van God se groot eindtydse handelinge met Israel en die nasies in hierdie geslag sal aanbreek.

Ons het alle rede om ernstig tot God vir die verdere herstel van Israel te bid. Hierdie volk is wel in ‘n gevorderde stadium van fisiese herstel, maar hulle is geestelik nog dood. Die Here het dit aan Esegiël, ‘n ander profeet van Israel tydens die Babiloniese ballingskap, getoon dat Hy Israel in die eindtyd na hulle land sal terugbring om hulle ook geestelik te laat herleef:

“Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here Here... Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die Here is, spreek die Here Here, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken. En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig... En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees” (Eseg. 36:22-28).

Bid vir die geestelike ontwaking van Israel. Hulle leef ver van die Here af en verwerp steeds die Messias. Onder hierdie omstandighede kan dit nie met hulle goed gaan nie, daarom wag die komende verdrukking ook vir Israel. Jeremia sê: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). Hierdie volk móét eers geestelik lewend gemaak en met die Messias versoen word voordat Christus die troon van Dawid sal herstel en uit Jerusalem oor die hele wêreld sal regeer. Daar is baie beloftes oor hierdie wonderlike, geestelike herstel van Israel sodat dié volk, hulle land en hulle hoofstad tot ‘n seën vir die hele wêreld verhef kan word. Herinner u die Here gereeld aan hierdie beloftes, soos wat Daniël ook in Babilon gedoen het?

“o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7).

Koning Dawid, wat Jerusalem 3000 jaar gelede verower en tot die hoofstad van Israel verklaar het, het gesê: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” (Ps. 122:6). Hy het ‘n profetiese vergesig gehad van die Messias wat eendag van sy troon af uit dié stad sal regeer. Die Here het gesê: “Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie! Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My. Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan” (Ps. 89:36-38).

Jesaja bevestig ook die belofte van die Messias wat vir ewig van die troon van Dawid af sal regeer: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jes. 9:5-6).

Ons is op die drumpel van ‘n direkte ingryping van God in die lotgevalle van Israel en die nasies. Groot en wonderlike dinge gaan vir die oorblyfsel van Israel gedoen word wanneer die Messias kom. Hy sê: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind... In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid” (Sag. 12:10; 13:1).

Hoeveel rede het ons nie om, soos Daniël, by die Heilige van Israel vir die geestelike herstel van hierdie volk in te tree nie! Ons moet hulle ook deur ons voorbeeld jaloers maak op die manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias dien. Ons sal self ook in die vrederyk geseën word wanneer Israel ten volle geestelik ontwaak het. Paulus sê: “Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:11-12).

Wat ‘n wonderlike dag wanneer die hele Israel gered sal word! Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend (Rom. 11:26). Die tye van die goddelose nasies sal dan verby wees en vrede op aarde heers.

 

Daniël 9(b). Sewentig Jaarweke in Israel se Geskiedenis

Israel se heilsgeskiedenis vanaf die einde van die Babiloniese ballingskap tot met die aanbreek van die Messiasryk, word in Daniël 9:24-27 binne die raamwerk van 70 jaarweke geplaas. In dié tydperk sal twee messiasse ‘n prominente rol vervul – die ware Messias en die valse messias:

“Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad [Jerusalem] bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors [die Messias] is sewe sewetalle; en 62 sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die 62 sewetalle [m.a.w. ná 7 plus 62 sewetalle] sal ‘n Gesalfde [die Messias] uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom [die valse messias], sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy [die valse messias] sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week [ná 3½ jaar] sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word” (Dan. 9:24-27).

Die 70 jaarweke staan met die volgende gebeurtenisse in verband:

  • Aan die begin van die 70 jaarweke, in 445 v.C., is opdrag deur koning Artasásta aan die Jode in die ballingskap gegee om Jerusalem en die tempel te gaan herbou (Neh. 2:1).
  • Die aanvanklike bouwerk is ná 7 jaarweke voltooi. In die daaropvolgende 62 jaarweke is Jerusalem in tye van benoudheid verder uitgebrei en bewoon.
  • Aan die einde van 69 (7+62) jaarweke, in April 32 n.C., is die Messias in Jerusalem verwerp en gekruisig. Omdat Israel die Messias verwerp het, is God se heilsplan met hulle tydelik ter syde geskuif en is die evangelie na die ganse nie-Joodse wêreld uitgedra. In hierdie tyd was Israel in ‘n internasionale ballingskap onder die nasies (Luk. 21:24).
  • Die eindtydse herstel van Israel na hulle land het formeel in 1948 begin, terwyl die verklaring van Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel in 1980 plaasgevind het. Die toneel is nou gereed vir die begin van die 70ste jaarweek van Daniël, wanneer die valse Messias met Israel en die nasies ‘n verbond sal sluit.
  • Aan die einde van die 70ste jaarweek sal die ware Messias kom, die valse messias en sy magte verdelg en die hele oorblyfsel van Israel fisies uitred én ook geestelik lewend maak. Hierna sal die Messiasryk aanbreek en ewige geregtigheid sal in Israel heers. Almal van hulle sal die Messias van harte dien en sy spesiale getuies op aarde wees (Jer. 31:34).

Die profesie oor die 70 jaarweke is een van die duidelikste uitsprake in die Bybel oor Israel se dispensasionele posisie vanaf hulle herstel uit die Babiloniese ballingskap in die 5de eeu v.C. tot met die aanbreek van die Messiasryk. ‘n Eerste opmerking oor die 70 jaarweke is dat dit eksakte tydperke is wat as “sewetalle” (Heb. shabua) geïdentifiseer word. ‘n Jaarweek is ‘n periode van presies sewe jaar: “Ses jaar lank mag jy jou land saai... maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ‘n sabbat vir die Here” (Lev. 25:3-4). Die 1933/53 vertaling van die Bybel beskryf die jaarweke tereg as “sewetalle.”

Moderne Israel het hulle Bybelse jaarweke weer herstel, en in hierdie siklusse onderhou ortodokse Jode elke sewende jaar as ‘n sabbatsjaar. Hulle huidige jaarweek strek vanaf 1 Tisri 2001, dit is September 2001 op ons kalender, tot op 1 Tisri 2008. Israel volg ‘n maankalender waarin elke maand met die nuwemaan begin en elke jaar op die eerste dag van die maand Tisri, wat Rosh Hashanah genoem word. Tisri, wat die eerste maand op Israel se siviele kalender is, is die sewende maand op hulle godsdienstige kalender (Lev. 23:24) wat in die lentemaand, Nisan, begin het toe hulle uit Egipte getrek het (Ex. 12:2). Omdat ‘n maanmaand net 29½ dae lank is, is ‘n maanjaar 354 dae lank – 11¼ dae korter as ‘n seisoensjaar. As gevolg hiervan het Israel soms skrikkeljare met 13 maande elk om weer in pas met die seisoensjare te kom, want die maand Tisri moet altyd in die herfs wees wanneer dit in Israel oestyd is.

Die sewentig jaarweke is egter nie seisoensjare of maanjare nie, maar 490 profetiese jare van 360 dae elk (vgl. Op. 11:2-3, 12:6 en 13:5 waarin daar na die twee helftes van die 70ste jaarweek as 42 maande en ook as 1260 dae verwys word, m.a.w. maande van 30 dae elk). In verband met die profetiese tydperk van 70 jaarweke moet daar baie duidelik gelet word op die vertrekpunt van die 70 jaarweke toe die opdrag uitgegaan het om Jerusalem weer op te bou; die onderbreking daarvan aan die einde van 69 jaarweke toe die Messias verwerp is; die aanbreek van die 70ste week wanneer ‘n verbond met die valse messias gesluit sal word; die verbreking van Israel se verbond met die valse messias in die middel van die 70ste week; en die voleinding van die 70 jaarweke wanneer die hele Israel gered sal word.

Wanneer daar duidelikheid oor die begin en voleinding van hierdie tydperk verkry is, verval alle onbybelse spekulasie daaroor. Min mense redeneer oor die aanvang van die 70 jaarweke, naamlik koning Artasásta se toestemming aan die Joodse ballinge om hulle stad en die tempel te gaan herbou (Neh. 2:1). Daar word egter baie teenstrydige uitsprake oor die einde van die 70 jaarweke gemaak. Sommige mense probeer om die hele tydperk van 490 profetiese jare by die kruisiging van Jesus af te sluit, en ander sluit dit by die verwoesting van Jerusalem in die jaar 70 n.C. af. Nie een van hierdie twee datums pas egter binne die raamwerk van 70 jaarweke nie. Om uitsluitsel hieroor te kry, moet ons op die volgende twee belangrike toestande let wat aan die einde van die 70 jaarweke sal heers, en dit sal duidelik eers ná die wederkoms van die Messias en Israel se nasionale versoening met Hom aanbreek:

Eerstens: Aan die einde van die 70 jaarweke sal, wat Israel betref, die goddeloosheid voleindig (Heb. kala), die maat van die volk se sondes vol en die ongeregtigheid versoen wees. Die werkwoord kala beteken om iets te beëindig en finaal af te sluit. Israel se sonde en ongehoorsaamheid as volk sal by die wederkoms van die Messias tot ‘n einde gebring word: “In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid” (Sag. 13:1). Die versoeningswerk wat in beginsel reeds op Gólgota gedoen is, sal dan eers in die praktyk deur die hele Israel in die geloof aanvaar word. Op daardie dag sal die oorblyfsel van Israel opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en rouklaag oor Hom soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun (Sag. 12:10). “Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26). Ná hierdie gebeurtenis sal die volk volkome, en in sy geheel, met God versoen wees en Hom almal van harte dien: “En hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees. En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie” (Jer. 32:38-40). Hierdie toestand het nog nooit eers naastenby in die geskiedenis van Israel bestaan nie, daarom weet ons dat die maat van hulle sondes nog nie vol is nie.

Tweedens: Nadat Israel deur die Messias met God versoen is, sal ewige geregtigheid aangebring word, gesig en profeet sal beseël wees en wat hoogheilig is sal gesalf word. Die aanbring van ewige geregtigheid beteken letterlik dat “die geregtigheid van die eeue” ‘n aanvang sal neem. God gaan met ‘n bedeling (dispensasie) begin wat deur geregtigheid gekenmerk sal word. Dit is duidelik ‘n verwysing na die duisendjarige vrederyk van Christus (Jes. 60:21; Jer. 23:5-6). Die beseëling van die profesieë beteken dat hulle ná die 70 jaarweke vervul, afgesluit en beëindig sal word. Israel moet dan almal gered en in hulle land herstel wees, en die Messias moet terug wees en van die herstelde troon van Dawid af oor Israel én die hele wêreld regeer. Sy vyande moet ook verdelg en die duisendjarige vrederyk ten volle gevestig wees. Hierdie toestand het duidelik nog nie aangebreek nie, want talle Bybelse profesieë, veral oor Israel en hulle land, is nog nie vervul nie en dus nog nie afgesluit en verseël nie.

Omdat die jaarweke erkende tydseenhede in Israel se chronologie is, het ons hier met ‘n duidelik omskrewe profesie te doen. Vandat die woord uitgegaan het om Jerusalem te herbou, het daar sewe jaarweke verloop totdat die stad, die tempel en die muur rondom die stad klaar gebou was. Daarna het nog 62 jaarweke verloop waarin Jerusalem in tye van benoudheid bewoon en verder uitgebrei is totdat die Messias gekom het. In totaal het daar dus 69 jaarweke verloop tot met die uitroeiing van ‘n Gesalfde – dit is die kruisiging van die Messias. Die King James vertaling sê: “Messiah shall be cut off” (Dan. 9:26). Volgens Jesaja 53:8 is die Messias tydens sy kruisiging “afgesny” uit die land van die lewendes. Hiermee is God se heilsplan met Israel as volk duidelik as gevolg van hulle verwerping van die Messias onderbreek.

Daar het inderdaad 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 v.C. aan Nehemia toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh. 2:1-8), tot met die kruisiging van die Messias op 14 Nisan 32 n.C. Prof. J.M. Schepers van die Randse Afrikaanse Universiteit het in ‘n artikel, “Die kruisigingsdatum van Jesus eeue tevore geprofeteer,” daarop gewys dat 483 profetiese jare van 360 dae elk, ‘n totaal van 173 880 dae verteenwoordig. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op ons Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke dus tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop, en is beëindig op die dag waarop Jesus gekruisig is. Al wat hierna in die heilsgeskiedenis van Israel as volk oorbly totdat die Messiasryk aanbreek, is sewe jaar – die 70ste jaarweek van Daniël, wat deur die volk se verbond met die valse messias ingelui sal word.

Dit is vanselfsprekend dat die verwerping en kruisiging van die Messias ‘n onderbreking in Israel se heilsgeskiedenis tot gevolg sou hê. Jesus het vir die Jode gesê dat hulle huis (Jerusalem) verwoes sou word omdat hulle Hom as Messias en Koning verwerp het (Matt. 23:37-38), en dat Hy as gevolg daarvan sou weggaan totdat hulle Hom tydens ‘n toekomstige ontmoeting as die beloofde Messias aanvaar: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).

Voordat Israel weer as volk in hulle land herstel sou wees, met ‘n eie regering wat ‘n besluit oor die herbouing van die tempel kan neem en namens die hele volk ‘n verbond met die Messias of enige ander wêreldleier kan sluit, moes hulle eers vir ‘n lang tyd onder die nasies verstrooi wees terwyl die tye van die nasies sy loop neem. Jesus het vir Israel gesê: “[Julle sal] as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Dit impliseer baie duidelik dat Israel in die laaste dae as volk in die land wat die Here aan hulle vaders gegee het, herstel sal word: “So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land” (Eseg. 37:21). Die Joodse bevolking van Israel het reeds tot 5,6 miljoen aangegroei, wat byna dieselfde as die aantal Amerikaanse Jode is. Binnekort sal Israel se Jode beslis meer as dié in die VSA wees. Dit sal ’n belangrike demografiese keerpunt wees, omdat Israel vir die eerste keer sedert die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. die grootste konsentrasie Jode ter wêreld sal hê. Volgens ortodokse rabbi’s sal Israel dán namens die hele Joodse volk op ’n godsdienstig wettige manier besluite kan neem en verbonde sluit.

In die sewe jaar direk voor die Messias se wederkoms sal Israel tydens die 70ste jaarweek ‘n verbond met die valse messias sluit. Jesus het hulle hierteen gewaarsku: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). Dit is dus duidelik dat die onderbreking in die 70 jaarweke op die verwerping van die ware Messias gevolg het, en sal strek tot op die dag wanneer Israel ‘n verbond met die valse messias sluit. Dan sal die aftelling van die laaste jaarweek begin.

Ons leef nou in die tyd van die progressiewe herstel van Israel en Jerusalem, waarin die 70ste jaarweek van die volk se heilsgeskiedenis enige tyd kan begin. Volgens Daniël 9:26-27 sal dit ‘n aanvang neem wanneer die vors van ‘n volk wat sal kom (die Antichris, of valse messias) ‘n verbond met Israel én baie ander lande sluit. Sy toetrede tot die wêreldtoneel sal waarskynlik met ‘n ernstige oorlogsituasie verband hou (die Russies-Arabiese inval in Israel – Eseg. 38 en 39), en hy sal die krediet vir die oorwinning opeis. Hy sal dus op ‘n kritieke oomblik as ‘n vredevors tot Israel se redding kom, en ook deur al die nasies geloof word omdat hy ‘n moontlike derde wêreldoorlog afgeweer en ‘n internasionale ekonomiese ineenstorting voorkom het.

Hierdie hoogs dramatiese gebeurtenis sal ‘n verreikende invloed op die Joodse volk, hulle regering en godsdiensleiers hê. Om al die opgewondenheid nog verder te verhoog, sal dié selfverklaarde “verlosser” aanspraak op die troon van Dawid in Jerusalem maak en op ‘n misleidende manier bewys dat hy ‘n afstammeling van Dawid is. Israel sal ‘n verbond met hom sluit waarin hulle hom as die beloofde Messias aanvaar. Hy sal ook aan hulle die reg gee om die tempel te herbou en weer die Ou Testamentiese offerdiens in te stel, omdat dit die voortgesette verwerping van Jesus se Messiasskap en sy eenmalige offer aan die kruis sal verseker.

Die valse vrede wat die Antichris sal bewerk, sal net 3½ jaar lank hou. In die middel van die jaarweek van sewe jaar sal hy in die herboude tempel se Allerheiligste ingaan en homself daar tot God verklaar (2 Thess. 2:4). ‘n Beeld van hom sal in die tempel geplaas word, en alle mense gedwing word om hom en sy beeld te aanbid (Op. 13:14-15). Dan sal hy Israel se nasionale godsdiens met sy offerdiens verbied: “…gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees” (Dan. 9:27).

Israel sal as gevolg hiervan hulle verbond met die valse messias verbreek en hom as Messias verwerp. Hy sal in woede op hulle toeslaan en ‘n Joodse volksmoord gelas. Op daardie dag sal die Jode vir hulle lewens moet vlug en geen oomblik kan verloor in hulle pogings om van die valse messias se magte af weg te kom nie (Matt. 24:15-22). Daniël verwys na hierdie tyd van verskrikking wat in al sy felheid oor Israel sal losbars. Paniek sal heers en baie mense sal nie weet wat om te doen nie. Sommige van die Jode sal die valse Messias erken in die misleidende hoop om vrede, sekuriteit en ekonomiese voordele by hom te verkry. Die ander Jode sal hom egter verwerp en as gevolg daarvan genadeloos deur hom vervolg word (Dan. 11:31-36). Hierdie arrogante leier “sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45). Die ware Messias sal hom tydens sy wederkoms verdelg (2 Thess. 2:8; Op. 19:19-20). Dit sal die skielike einde van die valse messias se sewe jaar lange skrikbewind in Israel én op die hele aarde meebring, en dus ook die einde van die 70ste jaarweek van Daniël.

Uit die profesie oor die 70 jaarweke van Israel se geskiedenis voor die Messiasryk is dit duidelik dat hulle die ware Messias aan die einde van die 69ste jaarweek sou ombring, hulleself as gevolg daarvan uit God se raadsplan sou begewe, uit hulle land verdryf sou word, en dat hulle aan die begin van die 70ste jaarweek in groot getalle in hulle land terug sal wees en met die valse messias ‘n verbond sal sluit. Hierdie feite dui sonder enige twyfel daarop dat die hele 70ste jaarweek deel van Israel se heilsgeskiedenis is en derhalwe nie deel van die kerkdispensasie nie. Die tye van die nasies, wat met die kerkbedeling en die lang internasionale verstrooiing van Israel saamval, moet eers verby wees voordat die 70ste jaarweek ‘n aanvang kan neem.

Aan die einde van die 70ste jaarweek moet daar ‘n baie dramatiese ingryping van God in die Joodse volksgeskiedenis wees. Dit sal daartoe lei dat hulle van gepoogde uitwissing deur die valse messias gered sal word, en ook almal geestelik met die Messias versoen sal word. Dan sal ewige geregtigheid vir hierdie volk aanbreek, en sal almal van hulle die Here van harte deur die Messias dien. Die hoogtepunt van hulle heilsgeskiedenis as volk sal in die daaropvolgende duisendjarige vrederyk onder die heerskappy van die Messias aanbreek. Al die nasies sal Israel se guns soek omdat dit vir almal duidelik sal wees dat die Here met hulle is (Sag. 8:22-23).

Net so letterlik as wat die eerste 69 jaarweke tot met die verwerping en kruisiging van die Messias verloop het, sal die 70ste jaarweek ook in jare, maande én selfs in dae afgetel kan word. Die enigste onbekende faktor is wanneer die kerkbedeling deur die wegraping afgesluit, die Antichris geopenbaar en sy sewe jaar lange verbond met Israel en die nasies gesluit sal word. Die gevorderde stadium van Israel se herstel in hulle land (die bot van die vyeboom), asook Jerusalem se staatkundige herstel ná baie eeue van vertrapping deur die nasies, is vaste aanduidings dat dié tyd baie naby is.

Daar móét ná die kerkbedeling ‘n sewe jaar tydperk aanbreek waarin Israel se heilsgeskiedenis tot met hulle nasionale bekering kan verloop, en waarin mense uit die ongeredde nasies ‘n laaste kans sal kry om Christus as Messias aan te neem – al sal dit ook in tye van groot benoudheid wees, waarin hulle bereid sal moet wees om die Antichris openlik te verwerp en as gevolg daarvan as martelare te sterf. Deur die opstanding van die regverdiges sal hulle verheerlikte liggame kry en in die heerlikheid van die Messias se duisendjarige regering op aarde deel. Johannes sê: “En ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank” (Op. 20:4). Dit is die tyd van ewige geregtigheid wat op die 70 jaarweke sal volg. Die herstelde Israel sal ‘n groot rol hierin speel.

 

Daniël 10. ‘n Felle Stryd Teen Bose Wêreldheersers

Hoofstuk 10 is die inleiding tot die laaste visioen wat Daniël in hoofstukke 11 en 12 beskryf. Hy sê: “In die derde jaar van Kores, die koning van die Perse, is ‘n woord geopenbaar aan Daniël wat Béltsasar genoem is, en die woord is waarheid maar groot swarigheid” (Dan. 10:1). Die woord “swarigheid” word in die Amplified Bible as “verdrukking en konflikte” vertaal, en in die New International Version as ‘n “groot oorlog.”

Die datum van hierdie visioen word gegee as die derde jaar van Kores, twee jaar ná die verskyning van Gabriël aan Daniël in hoofstuk 9. Hierdie laaste visioen kom dus twee jaar ná die eerste terugkeer van die Jode na Jerusalem (Esra 1:1-4). Slegs ‘n klein minderheid van hulle het teruggekeer. Die meerderheid was nog in ballingskap en in ‘n erg verslae toestand. Daniël het, waarskynlik as gevolg van sy hoë ouderdom, nie saam met die eerste groep ballinge na Jerusalem teruggekeer nie.

Die openbaring van hierdie visioen het by die profeet enige hoop vernietig dat Israel hulle nuwe vryheid baie lank sou geniet. Die Here het aan Daniël geopenbaar dat Israel in talle oorloë betrokke sou wees, en uiteindelik by die groot verdrukking voor die koms van die Messias. In hoofstuk 12 sê hy: “Daar sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie” (12:1). Daniël het die volle omvang van die visioen verstaan en in reaksie daarop drie weke lank getreur, sy dieet verander om in dié tyd geen smaaklike kos te eet nie, en hy het homself ook nie gesalf nie.

Die datum wat in vers 4 genoem word, naamlik die 24ste dag van die eerste maand op Israel se godsdienstige kalender, dui op die tyd net ná die fees van die ongesuurde brode, wat op sy beurt net ná die Paasfees volg (Ex. 12:18-19). Die Paasfees verkondig verlossing deur die bloed, en die fees van die ongesuurde brode dui op ‘n geheiligde lewe wat ná die verlossing moet volg (1 Kor. 5:6-8). In  hierdie tyd moes die Israeliete een week lank ongesuurde brood eet as simbool van die verwydering van sonde uit hulle lewe en van hulle toewyding aan God.

Daniël het hier ‘n groot saak op sy hart gehad en verleng die tydperk van verootmoediging van een week tot drie weke. Hy het nie net sy dieet gewysig nie, maar homself ook van salwing onthou. Die gebruik was dat ‘n persoon homself daagliks as beskerming teen sonbrand met olie versorg het, en verder was dit ook ‘n teken van blydskap (Spr. 27:9). Daniël se weerhouding hiervan dui op sy ingesteldheid van rou. Die beeld van iemand wat treur, word só in 2 Sam. 14:2 beskryf: “Stel jou tog aan soos een wat treur, en trek rouklere aan; en salf jou nie met olie nie.”

‘n Mens kan nie net deur uiterlike handelinge soos vas die guns van God afdwing nie, maar dit is wél noodsaaklik om van tyd tot tyd jou aardse en vleeslike behoeftes te temper om só die ingesteldheid van jou hart te suiwer en jou geestelike kommunikasie met God te verhoog. Daniël wou nie bloot die voorskrif van die ongesuurde brood nakom nie, maar hy wou sy hart en sy hele wese aan die Here toewy, terwyl hy ook na groter duidelikheid oor onaangename werklikhede in die lewe van sy volk gesoek het.

Onder ons Afrikaners is daar vandag baie oorgelewerde godsdienstige tradisies wat meesal nie eers meer gehoorsaam word nie, bv. huisgodsdiens en die eerbiediging van sekere godsdienstige dae, maar daar is ondanks hierdie tradisies baie min opregte en hartlike toewyding aan die Here. Het Daniël meer rede as ons gehad om só op te tree? Ek dink nie so nie. U en ek het aan die een kant die ten volle geopenbaarde profetiese Woord van God tot ons beskikking, en aan die ander kant ‘n geweldige heidendom. Het ons nie ‘n groot verantwoordelikheid om die volle implikasies van mense se sondige lewenswyse aan hulle te verkondig nie? Ons verantwoordelikheid is nét so groot, of dalk nog groter as dié van Daniël wat vir die verlossing van sy volk gebid het.

In antwoord op Daniël se afsondering en gebed volg die visioen van die volgende verse, asook die voorspellings van hoofstuk 11. Ons lees in die eerste vers dat die woord wat Daniël ontvang het, waar en betroubaar is. Dit is in elk geval reeds as waar bewys, aangesien die grootste gedeelte daarvan wat op gebeure in Daniël se tyd betrekking het, in fyn detail vervul is. Ons kan daarvan seker wees dat die eindtydse profesieë ook net so letterlik vervul sal word. Die feit word beklemtoon dat daar groot swarigheid vir Israel wag. Die volk het reeds moeilike tye deurgegaan, maar die ergste het nog vir hulle voorgelê.

Hierdie stryd wat rondom God se uitverkore volk gevoer word, word nie net op aarde gevoer nie omdat dit wesenlik ‘n stryd tussen God en Satan is. Dit is die onderwerp van hierdie hoofstuk. Daniël het die gesig verstaan en insig daarin gehad. Miskien beteken dit dat Daniël hier by die laaste hoofstukke vir die eerste keer ‘n duidelike perspektief gekry het, en in die lig daarvan ook die eerste hoofstukke beter verstaan het. Die openbarings gaan nie net oor hom en die ballinge nie, maar om ‘n wêreld wat uit die greep van Satan gered moet word.

Verskyning van die hemelse boodskapper

Daniël sê: “En op die vier en twintigste dag van die eerste maand, terwyl ek op die wal van die groot rivier was, dit is die Hiddékel, het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ‘n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas. En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ‘n menigte. En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam met my was, het die gesig nie gesien nie; nogtans het ‘n groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg. Toe het ék alleen oorgebly en hierdie groot gesig gesien, en geen krag het in my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie. En ek het die geluid van sy woorde gehoor, en toe ek die geluid van sy woorde hoor, het ek bewusteloos op my aangesig, met my aangesig op die aarde, geval” (Dan. 10:4-9).

Die tyd van Paasfees en die fees van die ongesuurde brood is ryk aan simboliek wat op die Here Jesus, sy offer aan die kruis en die volk se reiniging van hulle sonde dui. Terwyl Daniël homself in dié tyd verootmoedig, ontvang Hy ‘n gesig van ‘n hemelse Persoon wat heel waarskynlik Christus is, wat in hoofstuk 7 as die Seun van die mens beskryf word. Die volgende drie redes ondersteun hierdie beskouing:

1.      Christus (die Messias) staan sentraal in die hele verlossingsplan vir die volk Israel, soos wat ook in hoofstuk 9 aangetoon is. Die offerlam wat in Egipte geslag is, is ‘n heenwysing na die Lam van God wat vir die sonde van die hele wêreld geoffer is (Joh. 1:29).

2.      Die beskrywing van die Persoon in hierdie verse kom verbasend ooreen met dit wat in Openbaring 1 van Christus gesê word. Johannes het gesê hy sien “Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters” (Op. 1:12-15).

3.      Dit gebeur selde of ooit dat ‘n engel in soveel detail en heerlikheid beskryf word as wat hier die geval is. Die Man wat met die linne bekleed was, het die heerlikheid van dié Een wat later as die Eniggeborene van die Vader mens geword en aan sy volk verskyn het (Joh. 1:14)

Die beskrywing van die Persoon wat aan Daniël verskyn het, verwys na sy reinheid, heiligheid, koninklikheid en skoonheid, en ook na sy doel om gesien en gehoor te word, om te ondersoek en te oordeel. Daniël het baie hewig op hierdie verskyning gereageer. Sy gesonde kleur het hom verlaat en hy het bewusteloos neergeval. Sy totale onwaardigheid en nietigheid het hom oorweldig. Sy vriende het nie eers die gesig gesien nie, waaruit dit blyk dat dit ‘n visioen was en nie ‘n persoonlike verskyning nie. Hulle het as gevolg van Daniël se reaksie die bonatuurlike teenwoordigheid aangevoel en weggevlug. Dit herinner sterk aan Christus se verskyning aan Paulus op die pad na Damaskus (Hand. 22:9).

Die vors van Persië

Daniël  gaan voort met die beskrywing van sy visioen: “En kyk, ‘n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan. En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan. Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom; maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Migael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië. Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms. En terwyl hy hierdie woorde met my spreek, het ek my aangesig na die grond gedraai en stom geword. En kyk, een wat soos ‘n mens gelyk het, het my lippe aangeraak. Toe het ek my mond oopgemaak en gespreek en aan hom wat teenoor my staan, gesê: My heer, deur die gesig het krampe my oorval en het ek geen krag oorgehou nie. En hoe kan so ‘n geringe kneg van my heer met so ‘n heer van my spreek? Wat my aangaan, bestaan daar nou geen krag in my nie, en geen asem het in my oorgebly nie. Toe het die een wat soos ‘n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk en gesê: Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk, ja, sterk! En terwyl hy met my spreek, het ek moed geskep en gesê: My heer kan maar spreek, want u het my versterk. Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland. Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Migael (Dan. 10:10-21).

As ons ook, soos Daniël, kan verstaan en insig in die profetiese woord verkry, dan sal ons baie beter begrip hê vir die stryd wat Christus in Getsémane gevoer het. Daar het dit nie net om die verlossing van die Jode uit die ballingskap gegaan nie, maar oor die oorwinning oor die mag van Satan om die weg te open vir alle mense op aarde wat hulleself tot God wil bekeer. Daar het dit nie om ‘n stryd teen die vors van Persië gegaan nie, maar ‘n stryd teen Satan self wat die vors van die hele gevalle wêreld is. Verstaan ons werklik wat Jesus Christus op Gólgota vir alle verlore sondaars gedoen het? Hy het gekom om die werke van die duiwel te verbreek (1 Joh. 3:8).  Almal wat Hom as Verlosser aanneem, word uit die mag van die duisternis na die ewige koninkryk van Christus oorgebring (Kol 1:13).

Daniël was omtrent 84 jaar oud toe hy hierdie dieper insig in die Woord van God verkry het. Ons het egter die uitnemende voorreg om die ganse openbaring van God deur sy Woord tot ons beskikking te hê. Laat ons Hom innig daarvoor dank en onsself daarop toelê om sy Woord te ken en te verstaan, want “dit is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17). God se woord is ook vir ons ‘n profetiese lig op die pad, sodat ons in hierdie donker dae perspektief kan hê omdat ons weet wat om te verwag en wat God se raadsplan met die mens is (2 Pet. 1:19).

Dit is uit Daniël se visioen duidelik dat die vors van Persië nie net ‘n aardse koning was nie, want dié kan tog nie teen ‘n engel of teen die Here veg nie. Hierdie vors is ‘n demoon wat die koninkryk van die Perse as ‘n spesiale arbeidsveld ontvang het. Die hele drie weke terwyl Daniël in gebed was, het die Engel van die Here stryd gevoer teen die vors van die koninkryk van die duisternis. Hierdie vors wou die Jode as die uitverkore volk van God vernietig en voorkom dat hulle uit die ballingskap na hulle land terugkeer. Verder word daar ook na die vors van Griekeland verwys, wat soortgelyke doelstellings gehad het.

Daar is inderdaad ‘n voortdurende stryd in die geesteswêreld aan die gang, en die Here beskerm ons teen hierdie aanslag uit die bonatuurlike. “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Ef. 6:12). Ons het met die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu te doen. Die Here Jesus noem Satan die owerste van hierdie wêreld (Joh. 14:30), Johannes sê dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19), en Paulus noem hom die god van hierdie wêreld (2 Kor. 4:4) en die owerste van die mag van die lug, wat in die kinders van die ongehoorsaamheid werk (Ef. 2:2). Openbaring 13:2 sê dat Satan ‘n troon en groot mag het.

Ons weet dus baie goed van die koninkryk van die duisternis en van die groot mate van beheer wat hulle oor die teenwoordige bose wêreld het (Gal. 1:4). Ons is egter nie in detail oor al die werkinge en gesagsposisies van hierdie koninkryk ingelig nie, en die Nuwe Testament lig ons ook nie oor spesifieke demone in wat oor sekere lande aangestel is nie. Ons weet net van die oorhoofse beheer wat Satan oor die hele wêreld het, asook die feit dat hy ‘n groot aantal demone as handlangers het.

Ons weet ook dat die duiwel die beheer oor die goddelose wêreld sal behou totdat Jesus terugkom om die antichristelike wêreldheersers te verdelg (Op. 19:19-21) en die duiwel in ‘n bodemlose put te laat bind. (Op. 20:1-3). Sy aanslag op die mensdom sal gedurende die verdrukking aansienlik toeneem. Volgens Openbaring 12:12 sal hy in die middel van die verdrukking met dubbele woede op die mensdom toeslaan omdat hy sal weet dat hy min tyd oor het voordat Christus na die aarde sal terugkom.

In die lig hiervan is dit noodsaaklik om die duiwel te weerstaan en jou eie lewe in die oorwinning van Christus te leef. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat jy staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:11). Ons moet die wapen van geloof in Christus gebruik, want in sy Naam en deur sy krag kan ons teen elke versoeking oorwin. Ons moet ook die swaard van die Gees gebruik, wat die Woord van God is. Satan is weerloos teen die beloftes in die Bybel. Ons moet dit net in die geloof ons eie maak en in die lig daarvan wandel. Ook is daar die bloed van die Lam, dit is die kruisdood van Jesus Christus, waardeur die mag van die duiwel se aanslae verbreek kan word. Deur sy kruisdood het Christus die duiwel oorwin wat mag het oor die dood (Heb. 2:14).

Hierdie oorwinning word aan individuele gelowiges belowe, sodat hulle volkome vry van Satan se beheer kan leef. Dit beteken egter nie dat ons die mag het om Satan van sy wêreldwye magsposisie as die owerste van hierdie wêreld te ontneem nie. Daar is wél groepe Christene wat hierdie sienswyse huldig, daarom beoefen hulle strategiese geestelike oorlogvoering in sekere dorpe, stede of lande in ‘n poging om gebiedsdemone te verdryf. Hulle meen dat hulle sodoende Satan se mag heeltemal kan breek sodat die koninkryk van God in die plek daarvan gevestig kan word. Hulle verwag groot herlewings nadat hulle op gebedsmarse gegaan en al die vestings van Satan in sekere plekke verbreek het. Hierdie benadering is tipies van koninkryksteologie en dié mense is vas daarvan oortuig dat hulle die wêreld van demoniese beïnvloeding kan bevry voordat Christus weer kom. Hulle neem onder meer Daniël se verwysing na die vors van Persië as ‘n voorbeeld van die bestaan van gebiedsdemone en stel dan planne in werking om hierdie demone te oorwin en te verdryf. Dit is vir hulle die sleutel tot groot Christelike transformasies in die samelewing.

Dit is ‘n onbybelse idee, omdat ons weet dat die tye van die goddelose nasies, asook die duiwel se beheer oor die miljoene mense wat die duisternis liewer het as die lig, tot met die wederkoms van Christus sal voortduur. Tot daardie tyd sal ons vreemdelinge en bywoners in ‘n wêreld wees wat in die mag van die Bose lê. Ons opdrag is om die evangelie te verkondig sodat mense uit satansmag bevry en soos brandhout uit die vuur geruk kan word. Daarna moet hulle skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Diegene wat op die smal weg is, sal steeds ‘n minderheid in ‘n oorwegend goddelose wêreld wees.

Daniël was uitermate geskok toe hy in die visioen van die groot ellendes kennis geneem het wat oor God se volk sou kom. Hy het daarna met groter erns en toewyding vir Israel by God ingetree. Bybelstudente van ons tyd behoort selfs nog in ‘n groter mate onder die indruk van die erns van die situasie te wees. Daar kom ‘n groot verdrukking soos daar nog nooit was nie. Dit sal benewens die Antichris se skrikbewind ook met ongekende goddelike oordele oor ‘n bose wêreld gepaard gaan. Jesaja sê: “Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek... Die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor” (Jes. 24:3-6).

Dit is ‘n saak van die uiterste erns dat ons mense sal waarsku om in die regte verhouding met die Here te kom, sodat hulle waardig kan wees om die komende verdrukking te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36). Volgens Daniël 7:13-14 is die heerskappy van die wêreld aan die Seun van die mens oorgegee en sal Hy met sy wederkoms sy koninkryk hier vestig. Tydens sy wederkoms sal Hy egter almal oordeel wat sy koninkryk verwerp het en in die plek daarvan aan die koninkryk van Satan dienstig was. Die groot dag van sy toorn is baie naby, en dan sal die goddeloses paniekbevange wegvlug en sê: “Berge val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam” (Op. 6:16). Vir die regverdiges sal ewige heerlikheid in Christus se koninkryk aanbreek.

 

Daniël 11. Die Koning van die Noorde

As vertrekpunt vir hierdie hoofstuk verwys Daniël na die einde van die Medo-Persiese ryk, die ontstaan van die Griekse ryk en die verdeling daarvan in vier onafhanklike koninkryke:

“Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland. Dan sal ‘n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net soos hy wil. En as hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort en nie wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie – want sy koninkryk sal verwoes word en nie aan hulle behoort nie, maar aan ander” (Dan. 11:2-4).

Die dapper koning wat opgestaan en die Medo-Persiese ryk verslaan het, was die jong Alexander die Grote. Met sy vroeë dood het hy geen opvolgers gehad nie, en is sy ryk in vier koninkryke onder die bewind van vier van sy generaals verdeel. In die voortgesette stryd teen Israel was net twee van hierdie vier provinsies van direkte belang, naamlik die Siriese provinsie ten noorde van Israel en die Egiptiese provinsie ten suide van Israel. Na hulle word in dié hoofstuk as die koning van die Noorde en die koning van die Suide verwys.

Vanuit die magstryd tussen hierdie twee koninkryke word die lyn profeties deurgetrek na die optrede van ‘n eindtydse koning van die Noorde, naamlik die Antichris. Hoewel een van die historiese konings van die Noorde, naamlik Antiochus Epifanes, ‘n duidelike tipe van die Antichris was, beskryf Daniël van vers 36 af tot aan die einde van die hoofstuk nét die optrede van die eindtydse koning van die Noorde, wat die Antichris is.

Daniël beklemtoon in hierdie hoofstuk weer eens die eindtydse toepassing van die visioene wat hy gehad het. Al sy visioene moet egter in ag geneem word voordat enige konkrete gevolgtrekkings oor die verskyning van die Antichris gemaak word. In Daniël 7 word die Romeinse ryk voorgestel as ‘n dier met tien horings op sy kop, en die Antichris as ‘n klein horinkie wat uit een van die tien opkom. In Daniël 8 word die Griekse ryk as ‘n bokram beskryf wat later vier horings op sy kop gehad het, en die Antichris as ‘n klein horinkie wat uit een van die vier opkom. In Daniël 11 word die perspektief in die Griekse ryk egter vernou en word aangedui dat die Antichris die eindtydse koning van die Noorde is wat uit die Siriese provinsie van die Griekse ryk na vore sal kom. Eers word die Antichris dus as een uit tien in die Romeinse ryk voorgestel, dan as een uit vier in die Griekse ryk, en uiteindelik as een uit twee in die Midde-Oosterse provinsies van die Griekse ryk. Daar word ook aangetoon watter een van hierdie twee sy gebied van oorsprong is.

Binne hierdie totale scenario moet ons dus na ‘n gebied kyk wat gemeenskaplik deur die Romeinse en Griekse ryke beheer is. Ons weet reeds uit die oogpunt van die Griekse ryk dat dit die gebied van die koning van die Noorde is, naamlik die Siriese provinsie. Hierdie selfde provinsie was ook onder die beheer van die Romeinse ryk, daarom hoef daar nie oor die Antichris se gebied van oorsprong gespekuleer te word nie. Die Griekse ryk het nie die lande in Wes-Europa beheer nie, daarom kwalifiseer nie een van hulle om die rol van die eindtydse koning van die Noorde te vervul nie. In elk geval is hulle wes van Israel en nie noord nie. Die feit staan dus vas dat die Europese Gemeenskap ook na die Midde-Ooste gaan uitbrei en uiteindelik hulle regeringsetel hier sal vestig. Dan sal die rol van Brussels uitgedien wees.

Wat die Siriese provinsie uit historiese tye betref, moet in gedagte gehou word dat dit veel wyer as die huidige land Sirië strek – dit sluit Sirië, Irak en Libanon in. Die ou Babiloniese ryk was ook deel daarvan, asook die Medo-Persiese ryk. Wanneer die Antichris dus uit dié gebied na vore tree, sal hy al vier die groot wêreldryke verteenwoordig waarvan Daniël in sy profesieë skryf. Dit is presies waarom Johannes hom in die jaar 95 as ‘n dier beskryf het wat al vier die diere in Daniël 7 verteenwoordig. Hy sal die bek van ‘n leeu hê (die Babiloniese ryk), die pote van ‘n beer (die Medo-Persiese ryk), die lyf van ‘n luiperd (die Griekse ryk) en tien horings op sy kop (die Romeinse ryk) (Op. 13:1-2).

Die Antichris sal die Romeine se mag tot verwoesting en vernietiging hê, die Grieke se spoed en doeltreffendheid, die onveranderlike wette van die Meders en Perse, en die Babiloniërs se oorheersingsdrang en eis tot aanbidding van die koning. Al vier hierdie ryke het ‘n satanies-geïnspireerde haat vir Israel gehad, en hulleself daartoe verbind om Israel uit hulle land te verdryf en van die aarde af uit te delg. Die Babiloniërs het die Jode as ballinge weggevoer, Jerusalem en die tempel geplunder en verwoes, die koninklike dinastie van Juda beëindig en die ballinge gedwing om die gode van Babel te aanbid. In die Medo-Persiese ryk het koning Ahasveros aan Haman die volmag gegee om al die Jode dood te maak (Ester 3), en hierdie dekreet was onherroeplik. In die Griekse ryk het Antiochus Epifanes die tempel ontheilig, Israel se godsdiens met afgodediens probeer vervang en baie Jode laat doodmaak. Die Romeine het Jerusalem en die tempel in die jaar 70 n.C. totaal verwoes, 1,1 miljoen Jode om die lewe gebring en 97 000 as krygsgevangenes weggevoer. Al hierdie bose eienskappe sal kenmerkend van die eindtydse ryk van die Antichris wees.

Magstryd tussen die Noorde en Suide

In Daniël 11:5-20 word die magstryd tussen die koning van die Noorde en die koning van die Suide beskryf. Seleusus het beheer oor Sirië in die noorde gevoer en Ptolemeus het gesag oor Egipte in die suide gehad. Dit is merkwaardig dat die profesieë wat in 535 v.C. oor hierdie twee koninkryke uitgespreek is, honderde jare later, tussen 320 en 165 v.C., letterlik vervul is. Ons het dus alle rede om te glo dat die oorblywende profesieë wat op die eindtydse ryk van die Antichris dui, nét so letterlik vervul sal word.

‘n Langdurige stryd is tussen die konings van die Noorde en die Suide gevoer, met ‘n wisselende mate van sukses aan albei kante. Uiteindelik het die koning van die Noorde die oorhand gekry en die sterkste mag geword. In hierdie voortslepende konflik het Israel dit dikwels ontgeld omdat hulle tussen dié twee moondhede geleë was. Die volgende is ‘n greep uit hierdie lang geskiedenis van geweld en weerwraak:

“Dan sal die koning van die Suide verbitterd word en uittrek en teen die koning van die Noorde veg, wat ook ‘n groot menigte op die been sal bring, maar hierdie menigte sal in sy hand oorgegee word. As die menigte vernietig is, sal sy hart hom verhef; en hy sal tien duisende neerslaan, maar nie sterk bly nie. Dan sal die koning van die Noorde weer ‘n groter menigte op die been bring as die eerste, en ná verloop van tyd, van jare, sal hy sekerlik kom met ‘n groot leër en ‘n groot gevolg. En in dié tye sal baie teen die koning van die Suide opstaan, en die gewelddadige mense van jou volk sal hulle verhef om ‘n gesig in vervulling te laat gaan, maar hulle sal omkom. So sal dan die koning van die Noorde kom en ‘n wal opwerp en ‘n versterkte stad inneem; en die leërs van die Suide sal nie standhou nie, selfs nie sy uitgesoekte manskappe nie, sodat daar geen krag sal wees om stand te hou nie. En hy wat uit die Noorde teen hom kom, sal maak net soos hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie; hy sal ook gaan staan in die Pragtige Land, terwyl daar verdelging in sy hand is” (Dan. 11:11-16).

Die koning van die Suide was in hierdie stadium (221-204 v.C.) Ptolemeus IV en die koning van Noorde Antiochus III. Ptolemeus IV het kwaad geword vir Antiochus se veroweringstogte en ‘n leër van 70 000 voetsoldate, 5 000 ruiters en 73 olifante teen hom gemobiliseer en opgetrek om die leërs van Antiochus by die suidelike grens van Israel te ontmoet. Ptolemeus was suksesvol in die veldslag en duisende van Antiochus se manskappe het gesneuwel. Ptolemeus het hierdie oorwinning egter nie opgevolg nie en na Egipte teruggetrek om in sy grootheid te roem.

Antiochus het omgedraai en ‘n paar jaar later met ‘n veel groter leër teen Egipte opgetrek. In hierdie aanval het hy die hulp van Macedonië gekry, van Egiptiese rebelle én ook van Joodse rebelle wat na Sirië opgesien het om Egipte se heerskappy van hulle af te werp. In die proses het die Jode tot hulle eie ondergang bygedra, aangesien Sirië sodoende beheer oor hulle sou verkry. Dit het die weg vir Antiochus Epifanes geopen om in later jare ‘n skrikbewind in Israel te voer.

Antiochus Epifanes

‘n Groot deel van Daniël 11 word aan hierdie diktator gewy, omdat hy so ‘n duidelike tipe van die Antichris was: “Daarna sal ‘n veragtelike in [Seleusus IV] se plek optree op wie geen koninklike waardigheid gelê was nie, maar hy sal onverwags kom en met liste die koninkryk bemagtig. En die leërs van die instromende mag sal voor hom weggespoel en verbreek word, en ook die vors van die verbond. Want sodra ‘n bondgenootskap met hom aangegaan is, pleeg hy bedrog; en hy sal omhoog kom en met min manskappe sterk word. Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit en goed sal hy onder hulle uitstrooi en teen vestings planne beraam, maar net vir ‘n tyd. En hy sal sy krag en sy hart opwek teen die koning van die Suide met ‘n groot leër; en die koning van die Suide sal hom in die oorlog begewe met ‘n groot en baie sterk leër, maar hy sal nie standhou nie, want hulle sal planne teen hom beraam. En die wat sy spys eet, sal hom te gronde rig; en sy leër sal wegvloei, en daar sal baie gesneuweldes lê. En wat die twee konings betref, hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan een tafel sal hulle leuens spreek, maar dit sal nie geluk nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees. En hy sal na sy land teruggaan met baie goed, en sy hart sal teen die heilige verbond wees, en hy sal optree en na sy land teruggaan. Op die vasgestelde tyd sal hy terugkeer en in die Suide kom, maar dit sal die laaste keer nie wees soos die eerste keer nie. Want skepe van die Kittiërs sal teen hom kom, en hy sal moedeloos word; dan sal hy teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en optree; en hy sal teruggaan en ag gee op die wat die heilige verbond versaak het. En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel. En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree. En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank. En terwyl hulle struikel, sal hulle met ‘n klein hulp ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit. En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde – want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd” (Dan. 11:21-35).

Antiochus Epifanes was ‘n veragtelike mens. Hy het homself Epifanes (die skitterende) genoem maar sy bynaam was Epimanes (die mal mens). Hy was nie die wettige troonopvolger nie, maar het sy neef, Demetrius, met listigheid uitoorlê. Hy het sy mag met bedrog uitgebrei. Benewens verskeie ander oorloë het hy ook in 170 v.C. teen Egipte opgetrek. ‘n Groot veldslag het net oos van die Nyldelta plaasgevind, waar Ptolemeus verslaan is. In 168 v.C. het Antiochus weer ‘n aanslag op Egipte geloods. Egipte is toe deur die Kittiërs gehelp, wat Romeinse onderdane was. Antiochus kon hierdie keer nie die oorwinning behaal nie. Hy het teruggetrek en sy frustrasie en woede op Israel uitgehaal.

In Antiochus se optrede teen Israel het hy die ondersteuning van verskeie Jode gekry wat nie volgens die wet gewandel het nie. Deur hulle het hy ‘n venynige aanslag op die godsdienstige Jode gedoen. Hy het die tempel in Jerusalem ontheilig en ‘n beeld van die afgod Zeus daarin opgerig. Israel is op dié manier gedwing om ‘n Griekse god in plaas van hulle eie God, Jahweh, te aanbid. Diegene wat van die geloof afvallig geraak het, is verder deur Antiochus verlei. Daar was egter ook dié wat tot die dood toe standvastig in hulle geloof in die ware God gebly het.

Die uitdrukking om “loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde” (11:35) is ‘n oorgang van die beskrywing van Antiochus na die beskrywing van die Antichris in die laaste verse. Die geweldige lyding wat Israel tydens Antiochus se regering verduur het, het wél aan die einde van sy bewind tydelik opgehou, maar die loutering, reiniging en suiwering van God se volk het deur die eeue heen voortgeduur. In die komende verdrukking onder die bewind van die Antichris, sal Israel ongekende beproewings en vervolging verduur.

Die eindtydse koning van die Noorde

Antiochus Epifanes se ontheiliging van die tempel deur die oprigting van ‘n gruwelike afgodsbeeld daarin, asook die verpligte aanbidding van die beeld, is ‘n direkte heenwysing na dit wat die eindtydse koning van die Noorde, die Antichris, ook sal doen. Die Here Jesus het in sy profetiese rede spesifiek hierna verwys: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug… Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:15,16,21). Die Antichris sal die tempel in Jerusalem ontheilig deur homself daarin tot God te verklaar (2 Thess. 2:4) en ‘n beeld van homself daarin laat oprig (Op. 13:14-15).

Die laaste aantal verse van Daniël 11 het nie op Antiochus Epifanes betrekking nie, maar slegs op die Antichris: “En dié koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word. En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie, en op die liefling van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou. Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer. So sal hy dan optree teen die versterkte vestings met behulp van ‘n vreemde god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel. Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vry raak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon. En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie. En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Líbiërs en die Kusiete sy voetstappe volg. Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref. En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:36-45).

Die Antichris sal homself bo elke god verhoog – selfs ook bokant die God van die hemel, want hy sal op Hom geen ag slaan nie. Hy sal ook die liefling van die vroue verag, wat op Christus dui. Joodse vroue het altyd begeer om die moeder van die beloofde Messias te wees, omdat dit aan hulle baie eer sou bring. Die Antichris sal slegs een god vereer, en dit is die god van vestings. Dit is ‘n beskrywing van Satan, want dit is hy wat sy onderdane leer oom oorloë te voer en vestings in te neem. Die eindtydse koning van die Noorde sal weer met die koning van die Suide (Egipte) in botsing kom. Die moderne Arabiese wêreld sal dus tussen ‘n radikale noordelike deel en ‘n gematigde suidelike deel verdeeld raak. Die noordelike deel sal deur die Antichris uit Sirië of Irak beheer word. Hulle sal deel van ‘n vergrote Europese gemeenskap word, waaroor die Antichris ook beheer sal verkry onderweg na sy einddoel as wêreldheerser wat ook as God aanbid sal word.

Die Antichris sal beheer oor die goud en silwer verkry en dus ook ‘n ekonomiese diktator wees. In Jesaja 10 word hierdie koning van die Noorde die Assiriër genoem. Hy sal sê: “Die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos ‘n maghebber neergewerp. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na ‘n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos ‘n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat ‘n vlerk verroer of ‘n bek oopgemaak of gepiep het nie (Jes. 10:13-14). Hy sal sy beleid van internasionalisering dus sonder teëstand deurvoer.

Gerugte uit die Ooste sal hom verskrik en hy sal uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref. Hierdie gerugte sal waarskynlik met die groot opmars uit die Ooste in verband staan waarvan ons in Openbaring 9:14-19 lees. Dit verwys na lande oos van die Eufraatrivier, waarvan Sjina die belangrikste is. Volgens die Afrikaanse Bybel sal die Antichris sy paleistente, m.a.w. sy militêre beheersentrum, tussen die see en die berg van die heilige Prag opslaan. In die oorspronklike taal word daar egter in die meervoud na seë verwys. Die bedoeling is dat hy homself op die berg Sion in Jerusalem sal ingrawe, wat tussen die Dooie See en die Middellandse See is.

Die Antichris se mag sal sonder die toedoen van mensehande verbreek word. Dit sal op die dag van die ware Christus se wederkoms gebeur, wanneer hy saam met sy mede-regeerder, die valse profeet, gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi sal word (Op. 19:19-20). Paulus sê die Here Jesus sal hom “met die asem van sy mond verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet maak” (2 Thess. 2:8). Geen menslike óf duiwelse mag sal hom op daardie dag kan help nie, want Christus het alle mag in die hemel én op aarde. Die god van die vestings, Satan, sal niks aan die skielike beëindiging van die Antichris se bewind kan doen nie, want hy sal ook gevang en vir ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put gebind word (Op. 20:1-3).

 

Daniël 12. Benoudheid en Herstel vir Israel

In hierdie hoofstuk praat Daniël hoofsaaklik van die herstel van Israel ná die donker dae van die Antichris se skrikbewind in die tweede helfte van die sewe jaar lange verdrukking: “En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” (Dan. 12:1)

In die groot verdrukking sal daar as gevolg van wêreldwye vervolging geweldige benoudheid soos ‘n donker wolk oor Israel toesak. Die Living Bible vertaal Daniël 12:1 soos volg: “In hierdie tyd sal Migael, die magtige engel wat as ‘n vors oor jou volk waghou, in die hemel vir julle teen sataniese magte veg; en daar sal ‘n tyd van benoudheid vir Israel aanbreek wat erger as enige lyding in hulle totale geskiedenis is; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam in die boek opgeskrywe is.” Hieruit is dit duidelik dat alle aanvalle teen Israel, deur die eeue heen, satanies-geïnspireerd was. Nou, in die eindtyd, is dit ook nie anders nie – dit is die duiwel self wat die vyande van Israel aanhits om hierdie volk uit hulle besitting te probeer verdryf en hulle uit te delg. Hulle kry egter met die Here te doen, want Hy het aan Abraham gesê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3).

Die sewentigste jaarweek in Israel se heilsgeskiedenis, soos in Daniël 9:27 beskryf, is in twee helftes van 3½ jaar elk verdeel. Hierdie jaarweek sal begin wanneer die Antichris ‘n verbond met Israel én baie ander nasies sluit. In die middel van die jaarweek, m.a.w. ná 3½ jaar, sal Israel hulle verbond met hom verbreek wanneer hy in die herboude tempel in Jerusalem sal ingaan en homself daar tot God verklaar. Hy sal almal dwing om hom as God te aanbid en Israel ook verbied om enige verdere offers aan Jahweh te bring. Daniël 11:31 sê van hierdie diktator: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.” Die ontsettende gruwel is ‘n afgodsbeeld van die Antichris wat in die Allerheiligste van die tempel opgerig sal word.

Die Jode sal die verpligte afgodery verwerp, dan sal die tyd van groot benoudheid aanbreek wanneer ‘n oorblyfsel van Israel inderhaas te voet na ‘n eensame plek in die berge sal moet vlug. Hulle sal van Jerusalem af na die ruwe en byna verlate berge langs die Dooie See vlug, en daarvandaan waarskynlik verder suid na Petra toe. Jesus het gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet dié wat in Judéa is na die berge vlug… wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie... En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22).

Dit sal dus ortodokse Jode wees wat uit Jerusalem en omstreke, waar die Ou Testamentiese sabbatswette verskeie jare gelede weer ingestel is, sal moet vlug. Op die sabbat mag hulle net omtrent ‘n kilometer ver stap – volgens Handelinge 1:12 is dit die afstand tussen Jerusalem en die Olyfberg – wat beteken dat die Antichris se magte hulle dan maklik sal inhaal en doodmaak. Hulle moet ook bid dat hulle vlug nie in die winter sal wees nie, wanneer hulle vordering stadiger sal wees en hulle ook van blootstelling in die onherbergsame gebiede sal omkom.

Hierdie vlug word in Openbaring 12 beskryf, waar Israel as ‘n getroude vrou met ‘n kind voorgestel word. Dié beeld het glad nie op die kerk betrekking nie, omdat die kerk volgens 2 Kor. 11:2 as ‘n verloofde maagd voorgestel word, wat die bruid van die Lam is. Israel, daarenteen, word as ‘n vrou beskryf wat God vir Homself geneem het, en waaruit sy Seun, Jesus Christus, na die vlees gebore is. In Jeremia 31:3-4 sê die Here van haar: “Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel!” In Jesaja 54:5 verbind die Here Homself só aan Israel: “Want jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam.” In die lig hiervan maak die volgende gedeelte uit Openbaring 12 baie sin:

“En ‘n groot teken het in die hemel verskyn: ‘n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre... En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings... En die vrou het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou 1 260 dae lank” (Op. 12:1-6).

“En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aankla voor onse God dag en nag… Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:7-12).

“En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd [3½ jaar]. En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier ingesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het” (Op. 12:13-16).

Hierdie gedeelte sluit by Daniël 12 aan, waarin daar ook verwys word na die aartsengel, Migael, wat oorlog in die hemel voer. Die gevolg daarvan is, volgens Openbaring 12, dat die duiwel op die aarde neergewerp word, waar hy ‘n verskerpte stryd teen Israel en die nasies sal voer. Van hierdie oomblik af word hy toegang tot die troon van God ontsê, waar hy die ware gelowiges dag en nag aangekla het. Nou daal hy na die aarde neer met dubbele woede omdat hy weet dat hy min tyd het. Dit is die tyd wanneer hy op ‘n nuwe manier in die Antichris sal vaar en hom ‘n gedaanteverwisseling van valse vredevors tot ‘n gewelddadige en magshonger diktator sal laat ondergaan. Die Antichris sal homself dan in die tempel tot God verklaar en almal laat teregstel wat weier om hom te aanbid (Op. 13:15).

Hierna volg daar die laaste 3½ jaar van die verdrukking, wat as die groot verdrukking beskryf word. Dit sal 1260 dae lank wees, wat 42 profetiese maande van 30 dae elk is. Dit word ook as tyd, tye en ‘n halwe tyd beskryf, wat op seisoensjare dui, m.a.w. ‘n jaar, twee jare en ‘n halwe jaar. Dit is dieselfde as 1260 dae of 42 maande. Op hierdie oomblik sal Israel hulleself uit die Antichris se nuwe wêreldorde onttrek omdat hulle sal weier om hom as God te aanbid. Hierop sal die Antichris ‘n Joodse volksmoord gelas en hulle sal vinnig uit Jerusalem en omstreke moet wegvlug na die berge toe. Sagaria 13:8-9 verwys na hierdie tyd van groot vervolging onder die Jode, waarin tweederdes in die land sal sterf en net ‘n derde na ‘n veilige plek in die berge sal ontvlug.

Daniël voeg ‘n sekere aantal dae by die 1260 dae van die tweede helfte van die verdrukking: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae bereik” (Dan. 12:11-12).

Die eerste 30 dae het met Israel se nasionale rouklag te doen. Nadat die Messias sy verskyning op die Olyfberg gemaak, sy vyande verdelg en Homself as Redder, Verlosser en Koning geopenbaar het, sal ‘n tydperk van verlengde rouklag vir Israel oor hulle sonde aanbreek. In opregtheid van hart sal hulle dit eerlik bely en volkome daarmee breek: “In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem… En die land sal rouklaag by geslagte… In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 12:11–13:2).

Die nasionale rouklag sal waarskynlik 30 dae lank duur, soos wat gebruiklik in Israel was: “En toe die hele vergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel Aäron beween dertig dae lank” (Num. 20:29). “Toe het die kinders van Israel Moses beween in die vlaktes van Moab, dertig dae lank” (Deut. 34:8).

In Daniël se skedule van eindtydse gebeure word daar, onder andere, vir Israel se 30 dae van rou ná die koms van die Messias aan die einde van die groot verdrukking voorsiening gemaak, deur dit by die 1260 dae van die tweede helfte van die week te voeg. Die volgende tydsbepaling is uit Daniël 12:11-12 duidelik:

  • Van die tyd af dat die valse Messias die offerdiens sal verbied en die tempel ontheilig deur ‘n beeld van homself daarin te plaas, sal 1260 dae verloop totdat die ware Messias sy voete op die Olyfberg sit (Dan. 9:27; Op. 13:5). Ná ‘n verdere 30 dae van rou sal die geestelike vereniging tussen Israel en die Messias voltooi wees. Dan sal daar 1290 baie dramatiese dae verloop het sedert daardie donker dag van openlike rebellie teen die koninkryk van die hemel, toe die valse Messias homself in die tempel tot God verklaar het.
  • ‘n Verdere 45 dae sal deur die bruilofsmaal van die Lam, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem en die oordeel oor die nasies in beslag geneem word (Op. 19:7-9; Hand. 15:16-17; Matt. 25:31-32). Wanneer die Messiasryk formeel begin, sal 1335 dae verstryk het sedert die aanvang van die valse Messias se skrikbewind toe sy afgodsbeeld in die tempel opgerig is. Jode wat hierdie verskriklike tyd oorleef, sal ná die 1260 dae van die groot verdrukking (Matt. 24:15-22) die koms van die Messias aanskou. Ná 1290 dae sal hulle geestelik met Hom versoen wees, en ná 1335 dae sal hulle die beloofde ryk van die Messias binnegaan. Dan sal ewige geregtigheid vir hulle as volk van God aanbreek terwyl die Messias uit Jerusalem regeer.

Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here, Hom van harte dien, en sy lof onder al die nasies verkondig (Jes. 12:3-6 en 40:9). Die Here sê dat Hy vir Israel ‘n hart sal gee om Hom altyd te vrees, ook in die opkomende geslagte, en hulle sal nooit van Hom afwyk nie. Die Here sal Homself oor hulle verheug en aan hulle goed doen (Jer. 32:37-42).  Dan sal Israel se volheid die rykdom van die nasies wees (Rom. 11:12). “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge… en al die nasies sal daarheen toestroom… Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jes. 2:2-3).

Die nasies wat in die vrederyk deur Israel geëvangeliseer sal word, sal ‘n oorblyfsel van die volke uit die huidige bedeling wees. Hulle sal die slag van Armagéddon oorleef, maar nog nie die nommer van die dier ontvang het nie, en sodoende met Christus versoen kan word. By die wederkoms sal hulle saam met Israel rou bedryf oor hul sonde en vergifnis verkry (Matt. 24:30). Daarna sal hulle die Here dien en ook jaarliks die loofhuttefees in Jerusalem vier: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie” (Sag. 14:16-17).

Daniël stel dit duidelik dat net die geredde Israeliete die koninkryk van God sal beërf. Dit sluit ook diegene in wat reeds gesterf het, want hulle sal in die opstanding van die regverdiges nuwe liggame kry. Die ongereddes sal ook opgewek word om saam met die vyande van God tot die poel van vuur verdoem te word: “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik. En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Dan. 12:2-3)

Die boek Daniël word op ‘n hoë noot afgesluit met die heerlike versekering aan Daniël dat hy sal heengaan, maar weer sal opstaan om sy ewige bestemming te bereik: “En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (12:13).

Wat is u doel en bestemming in hierdie lewe én in die lewe hierna? Is u op die oomblik besig om sinvol te bou aan die bestemming wat God met u lewe het? Vir Paulus het die lewe net gegaan om dit wat Christus deur hom gedoen het om die heidene te bereik (Rom. 15:16-19). Verder het hy daarna gestreef om die krag van Christus se opstanding te ervaar en self ook die opstanding uit die dode te bereik. Sy doel was: “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik” (Fil. 3:10-11). Net diegene wat waarlik aan die Here behoort, sal deel aan die opstanding van die regverdiges hê. Johannes sê in Openbaring 20 dat hulle sal opstaan wanneer Christus weer kom, sodat hulle in sy koninkryk saam met Hom kan regeer. Hy noem die mense wat in die eerste opstanding opstaan, “salig en heilig” (Op. 20:6).

Die ander dode wat nie gered was nie, sal nie herleef voordat die duisendjarige ryk van Christus voleindig is nie (Op. 20:5). Oor hulle sê Johannes: “En as dit bevind was dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Op. 20:15).

Daniël se profesieë word afgesluit waar die bedeling van die nasies verby is en die gelowige oorblyfsel in Israel ten volle in die geopenbaarde koninkryk van God herstel is. Omdat dit op die verre toekoms betrekking gehad het, het die engel aan hom gesê: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder” (Dan. 12:4).

Hoewel baie Jode nie hierdie profesieë verstaan het nie, het hulle tóg troos uit die versekering geput dat die Here Israel uiteindelik van oorheersing deur die nie-Joodse nasies sou bevry. Gelowiges wat in die eindtyd leef, verstaan egter Daniël se profesieë omdat ons kan sien hoedat dit deur die eeue heen vervul is. Hierdie boek is veral vir ons tyd geskryf, daarom moet almal van ons streef om in ons kennis en geestelike insig daardeur verryk te word: “Baie sal dit deursoek en die kennis sal vermeerder” (Dan. 12:4).

Toe Johannes die boek Openbaring in die jaar 95 geskryf het, het hy gesê dat Bybelse profesieë nie verseël moet word nie, maar bestudeer en verkondig moet word. Die engel het vir hom gesê: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby” (Op. 22:10). Wanneer dit wél verkondig word, moet ons seker maak dat niks bygevoeg of weggelaat word nie: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Op. 22:18-19).

Wanneer mense die profetiese woord vergeestelik en weier om die letterlike betekenis daarvan te aanvaar, dan neem hulle dele van die boodskap daarvan weg. Indien hulle dinge byvoeg, bv. die boodskappe van buite-Bybelse profete wat daarop aanspraak maak dat hulle steeds drome en visioene oor die toekoms van die Here af ontvang, sal God self van hulle rekenskap opeis.

Ons moet net die Woord bestudeer, dit glo en ter harte neem: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Op. 1:3). Daar is net ‘n paar moontlikhede wat Bybelse profesieë betref: óf ons verseël dit deur Daniël, Openbaring en ander profetiese gedeeltes as geslote en onverstaanbare boeke te beskou en leef in noodlottige onkunde voort, óf ons doen daaraan afbreek deur dele daarvan te ontken en te vergeestelik, óf ons voeg buite-Bybelse profesieë daarby om ‘n skewe beeld en valse verwagtings te skep, óf ons glo dit net soos dit geskryf is, bewaar dit in ons harte en rig ons lewens daarvolgens in.

Paulus sê: “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:19-20). ‘n Sekere manier om die Heilige Gees in jou lewe uit te blus, is om die profesieë in die Bybel te ignoreer en as onbelangrik te beskou. Dan word jy nie deur die Gees gelei nie, jy wandel in die duisternis en weet nie wat jou bestemming is nie. Die Here Jesus het gesê: “Wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei... en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Joh. 16:13). Hy sal aan jou verligte oë van die verstand gee om die verborgenhede van die profetiese woord te kan verstaan.

Verlang jy na die wederkoms van Christus wat die koninkryk van die duisternis sal vernietig, Israel ten volle sal herstel en saam met sy heiliges op aarde sal regeer? Dit is wat die Here aan ons belowe.

 

Epiloog: Die Eindtydse Situasie in Israel

Huidige wêreldgebeure – veral in Europa en die Midde-Ooste – dui daarop dat die eindtydse profesieë van Daniël spoedig in vervulling sal gaan. Die tye van die nasies het met die Babiloniese Ballingskap van Israel begin en sal met die volle herstel van Israel in die eindtyd beëindig word. Dit sal nie sonder groot weerstand gebeur nie, want die duiwel gaan deur die bemiddeling van die Antichris volle beheer oor die ongeredde nasies verkry, en dan alles in die stryd werp om Israel, wat sedert 1948 progressief in hulle land herstel word, van die aardbodem af uit te delg. Israel is die groot struikelblok vir die nuwe wêreldorde van die nasies, daarom gaan hulle onder die Antichris se leiding al hulle militêre mag aanwend om te verhoed dat Israel se Messias-Koning terugkeer en dié land tot wêreldstatus verhef (Op. 19:19).

Die ontluikende nuwe wêreldorde het probleme met Israel, en probeer alles moontlik om dié land te verdeel en te verswak sodat dit ‘n speelbal in die internasionale gemeenskap se hande kan bly. In die proses is Jodehaat besig om verder op te bou as ‘n voorspel tot dit wat in die komende verdrukking (die 70ste jaarweek van Daniël) gaan gebeur. In Daniël 12 word die groot benoudheid van Israel bespreek wat hulle in die laaste helfte van die verdrukking sal oorval voordat ‘n oorblyfsel van die volk gered sal word. Die Here Jesus koppel die begin van hierdie eindtydse vlug aan die Antichris  se ontheiliging van die tempel deur ‘n afgodsbeeld, soos dit in Daniël 9 en 11 beskryf word (Matt. 24:15-16).

Daniël dui die rede vir hierdie vlug só aan: “...gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees” (9:27). Wanneer die Antichris die groot aanslag op Israel se nasionale godsdiens gedoen het, sal hy as ‘n verwoester geopenbaar word wat almal sal ombring wat nie met sy afgodediens wil saamgaan nie. Militêre geweld sal hiervoor gebruik word: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (11:31). In hoofstuk 12:1 en 11 sê Daniël dat daar vir Israel ‘n 3½ jaar lange tyd van groot benoudheid ná die ontheiliging van die tempel sal aanbreek.

Jode wat nie die verpligte afgodediens en aanbidding van die Antichris sal aanvaar nie, sal haastig vir oorlewing uit Jerusalem en ander Joodse gebiede moet vlug. Die Here Jesus sê dat hulle te voet na die berge sal vlug (Matt. 24:15-20). In watter rigting sal hulle vlug wanneer die Antichris ‘n Joodse volksmoord verklaar om al sy teëstanders te probeer uitwis? Uit die geskiedenis van Israel, waarin ontvlugtingsplekke in die berge ‘n groot rol speel, is dit duidelik dat hierdie vlug waarskynlik oor die berge van Judéa na Petra in Suid-Jordanië sal wees.

Petra, wat “Rots” in Grieks beteken, is ‘n verlate stad suid van die Dooie See in Jordanië. In die antieke geskiedenis het dit as Seïr bekend gestaan, wat die hoofstad van Edom was. In later eeue het die Nabateërs in die plek van die verdryfde Edomiete hier gewoon en hulle hoofstad Petra genoem. Petra is in ‘n lang skeurvallei geleë wat as die Kidrondal deur Jerusalem loop en daarna ook deur die Dooie See en verder suid. Waarskynlik het ‘n groot aardbewing en vulkaniese aktiwiteit hier plaasgevind en die aarde oopgeskeur sodat ‘n canyon met steil klowe en kranse gevorm is. Die oorblyfsels van die skouspelagtige stad bestaan uit tempels en grafkelders wat uit die groot formasies sandsteenrots gekap is. Daar is net ‘n nou skeur wat toegang tot die canyon bied, en dit kan maklik geblokkeer en afgesluit word. Dit is dus ‘n veilige ontvlugtingsplek.

‘n Indrukwekkende gesig begroet die reisiger wanneer die veelkleurige sandsteenformasies van die mees unieke en beroemdste spookdorp in die wêreld voor hom opdoem. Verder is daar die misterie van die stad se geskiedenis, asook die verwagting dat dit gedurende die groot verdrukking, volgens Openbaring 12:6, vir 3½ jaar lank ‘n ontvlugtingsplek vir ‘n oorblyfsel in Israel sal wees wanneer die Antichris hulle as volk sal probeer uitwis. Petra se rol in die geskiedenis is dus, ten spyte van sy absolute verlatenheid, nog nie verby nie.

Suid van die nou kloof wat toegang tot Petra bied, is daar ‘n vallei wat tussen 1½ en 5 kilometer breed is. Omtrent 3 kilometer suid van die toegang tot Petra is die Fontein van Moses (Ain Musa). Moses het die Israeliete in hulle trek deur die woestyn deur hierdie vallei tot by die poort van Petra gelei. Van daar af wou hulle langs Petra verbytrek op pad na die Beloofde Land, maar die vyandiggesinde Edomiete het hulle versoek twee keer geweier.

Waarom na Petra?

Hoewel dit nie uitdruklik in die Bybel gesê word dat die voortvlugtende Jode na Petra toe sal vlug nie, word dit duidelik deur historiese gebeurtenisse, omstandigheidsgetuienis en ‘n profesie oor Jordanië se posisie in die groot verdrukking geïmpliseer. Jode wat van Jerusalem af te voet berge toe vlug, sal om veiligheidsredes nie in die rigting van Egipte, Libanon, Sirië of die Middellandse See vlug nie, omdat die invalsmagte van die Antichris uit hierdie rigtings sal kom en hulle maklik sal kan omsingel en uitwis. Hulle sal ook nie Oos in die rigting van Amman vlug nie, omdat daar goeie toegangspaaie is waarop hulle maklik agtervolg en ingehaal sal kan word. Die enigste redelik veilige, hoewel ook die moeilikste begaanbare rigting vir hulle, sal suid en suidoos langs die Dooie See af wees, wat ‘n baie bergagtige gebied is.

Volgens die Joodse geskiedskrywer, Joséfus, het groepe Jode na Edom en Petra ontvlug toe die Babiloniërs Juda ingeval en Jerusalem en die tempel in die sesde eeu v.C. verwoes het. Toe die Romeine Jerusalem en die tempel in die jaar 70 n.C. verwoes het, het baie van die Jode na die verlate berge langs die Dooie See gevlug. Sommige van hulle het tevergeefs op ‘n bergtop by Masada probeer skuil. Ander het tot in Bosra en Petra suid van die Dooie See gevlug.

In die middel van die verdrukking, wanneer die Antichris homself tot God sal verklaar, sal die Jode in Israel in ‘n baie verswakte posisie wees. Volgens Daniël 9:27 en Johannes 5:43 sal hulle aan die begin van die sewejarige verdrukking ‘n vredesverbond met die Antichris sluit, in terme waarvan hulle óf sal ontwapen óf beheer oor hul gewapende magte aan ‘n internasionale vredesmag sal oorgee, en ook hulle land sal verdeel om vir die Palestyne ruimte te maak. In ruil hiervoor sal hulle veiligheid deur die valse “Messias” gewaarborg word en sal hulle ook die reg kry om die tempel in Jerusalem te herbou.

Wanneer Israel in die middel van die verdrukking hoogverraad teen die Antichris as selfverklaarde God en hoof van ‘n wêreldregering pleeg, sal hulle geen militêre, humanitêre of logistieke ondersteuning van enige aard hê nie. Hulle sal te voet, sonder padkos, net met die klere aan hulle lyf moet vlug. Gegewe hierdie besondere omstandighede kan aanvaar word dat hulle vlug nie vreeslik ver sal wees nie. Petra is omtrent 220 kilometer suidoos van Jerusalem af, en hoewel dit ‘n moeilike tog sal wees, is dit nie té ver vir voetgangers nie. Neem verder ook in ag dat die Here die aarde agter die vlugtende Israeliete sal laat oopskeur sodat hulle vyande hulle nie sal kan inhaal en oorrompel nie (Op. 12:15-16). Hierdie vlug en goddelike uitredding herinner baie aan Israel se vlug uit Egipte toe die Here die agtervolgende leërs van Farao by die Rooi See afgesny en verdelg het. Hy sal die voortvlugtendes in die woestyn onderhou, wat beteken dat Hy ook in hulle behoeftes aan kos en water sal voorsien, soos in die tyd ná hulle uittog uit Egipte.

Die opdrag aan die Jode is duidelik: “Vlug na die berge” (Matt. 24:16). Die berge in Israel is nie baie hoog nie, op die hoogste omtrent 1200 meter. Hulle bied ook nie baie veilige beskutting nie. Hierteenoor is die berge by Petra die hoogste in Jordanië, omtrent 1500 meter hoog. Dit is van die mees ruwe en ontoeganklike berge in die wêreld. Dit sal baie moeilik vir die Antichris se magte wees om die Joodse ballinge hier te bereik. Die Jode sal beslis ook in die lig van Daniël 11:41 weet dat Jordanië ‘n veilige ontvlugtingsplek sal wees, omdat dié land uit die hand van die Antichris sal ontkom. Daar staan: “Hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.” Die gebiede van hierdie drie antieke volke stem met die huidige Jordanië se grense ooreen. In die lig van hierdie Bybelse profesie sou dit dus baie wys wees om na die verlate bergvesting van die Edomiete in Jordanië te vlug. Neem verder ook die feit in ag dat Petra tot ‘n wêrelderfenisgebied verklaar is, wat in tye van oorlog nie aangeval, gebombardeer of op enige manier beskadig mag word nie. Dit maak nog soveel te meer van die plek ‘n veilige ontvlugtingsoord.

Dit is moontlik dat die eindtydse Joodse vlugtelinge volgens Psalm 60:11-12 sal bid: “Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom? Het U, o God, ons nie verwerp nie?”

Die slag van Armageddon

Wanneer die ware Messias, Jesus Christus, aan die einde van die groot verdrukking terugkom, sal die slag van Armageddon sy hoogtepunt bereik. Die Antichris, die valse profeet, die konings van die aarde en hulle leërs sal hulleself versamel om oorlog te voer teen Jesus Christus en sy hemelse leër (Op. 19:19). Die antichristelike magte sal op verskillende plekke saamgetrek wees om die oorblyfsel van Israel te probeer uitwis en ook teen Jesus Christus self te veg. Volgens Sagaria 12 en 14 sal baie van hulle in en om Jerusalem ontplooi wees, omdat hulle sal weet dat Christus sy voet op die Olyfberg sal neersit. Joël 3 sê dat daar ‘n groot sametrekking in die dal van Jósafat sal wees, wat die Kidronvallei is. Volgens Openbaring 16:16 sal daar ook ‘n groot monstering van troepe in die vallei van Megiddo in Noord-Israel wees. Jesaja 63 dui aan dat die vyandelike magte tot by Bosra, net suid van die Dooie See, sal opruk voordat hulle gestuit sal word. Bosra is 40 kilometer suidoos van die Dooie See, omtrent halfpad tussen die Dooie See en Petra. Hierdie linies sal dus waarskynlik op pad wees om die Joodse vlugtelinge in hulle bergvesting in Petra te gaan aanval en verdelg.

In Jesaja 63 lees ons die volgende oor die wederkoms van Messias, wanneer hy die oorblyfsel van Israel sal uitred en Hom oor die vyande van sy koninkryk sal wreek: “Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos een wat die wynpers trap? Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun het nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun. En Ek het die volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop” (Jes. 63:1-6).

Die oorblyfsel van Israel sal só gehate en van al hulle voormalige vriende verlate wees, dat niemand hulle sal help wanneer die Antichris en sy wêreldmag hulle probeer uitdelg nie. Hulle Messias, Jesus Christus, sal op ‘n kritieke oomblik tot hulle redding kom en self hulle vyande uitwis. Hy sal die suidelike opmars sowat 40 kilometer van Petra af stuit. Die vyande van Israel én van God sal gedood word met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit, en al die voëls sal versadig word van hulle vlees (Op. 19:21). Die Olyfberg, waarop die Here Jesus met sy wederkoms sy voet sat sit (Sag. 14:4), sal middeldeur split. Hierdie berg sal dan ook ‘n ontvlugtingsplek aan Jode bied wat tot aan die einde deur die vyand agtervolg sal word. “Julle sal vlug in die dal van my berge... soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda” (Sag. 14:5).

Direk hierna sal daar ‘n tyd van intense rou vir Israel oor hulle sonde aanbreek. Hulle sal met die Messias versoen word en dan in die vrederyk in hulle land gevestig word. Hier sal die geredde Israel die doel bereik waarvoor die Here hulle aanvanklik geroep het, naamlik om sy spesiale getuies onder die nasies te wees.

Ortodokse hervormings

Ten spyte van al die profetiese aanduidings dat Jesus die Messias van Israel is wat eers as die lydende Messias moes kom (Jes. 53; Ps. 22) voordat Hy as die regerende Messias kan kom om sy vyande te verdelg en uit Jerusalem te regeer (Sag. 14), verwerp die ortodokse Jode Hom nog steeds. In plaas hiervan gaan hulle met planne vir die herbouing van die tempel voort. Die Antichris sal hulle verder op hierdie weg aanmoedig, omdat die herbouing van die tempel en die herinstelling van diere-offers in die teken van die voortgesette verwerping van Jesus as Messias sal staan. Net Jesus, as die Lam van God, is die vervulling van al die Ou Testamentiese offers.

Daar word reeds op verskeie terreine voorbereidings vir die herbou van die tempel getref, waarna algemeen as die derde tempel verwys word. Die tempel van Salomo was die eerste tempel. Dit is voor die Babiloniese ballingskap verwoes maar ná Israel se herstel uit die ballingskap herbou. Die tempel van Herodes was die tweede tempel. Dit is in die laaste eeu voor Christus deur Herodes vir die Jode gebou, maar is in 70 n.C. deur die Romeine verwoes. Die tempel wat tans beplan word, sal dus die derde tempel wees.

Verskeie organisasies in Israel is met voorbereidings vir die bou van die tempel en die herinstelling van die priesterlike dienswerk gemoeid, bv. die volgende:

Die Sanhedrin. ‘n Moderne Sanhedrin met 71 lede is in die lewe geroep. Hulle bestaan uit godsdiensleiers en ortodokse Joodse geleerdes. Hierdie raad beywer hom vir die herbouing van die tempel en die beskerming van Israel se gebiedsintegriteit.

Die Tempelinstituut. Hierdie Instituut is met die versameling en vervaardiging van meubels, altare, toerusting en kledingstukke besig wat vir die hervatting van die tempeldiens nodig is. Hulle het onder andere reeds ‘n goue kandelaar en koper waskom laat maak, asook ‘n replika van koning Dawid se lier.

Priesterskole. Verskeie persone uit die stam van Levi word as priesters in spesiale priesterskole opgelei. Van 15 tot 19 Julie 2007 is daar ‘n groot konferensie vir priesters en Leviete in Jerusalem gehou. Jode met die van Cohen stam almal van die eerste priester, Aäron, af en mag dus as priesters opgelei word.

Temple Mount and Land of Israel Faithful Movement. Hierdie beweging is getrou aan die Tempelberg en Israel se Bybelse mandaat oor hulle land. Die leier van die beweging, Gershon Salomon, is baie aktief om Jode in Israel én ook in ander lande, veral Amerika, van die belangrikheid van die bou van die tempel bewus te maak. Hy kry geweldige positiewe reaksie, en op sy laaste Amerikaanse toer het baie Joodse vrouens, soos in Bybelse tye, hulle juweliersware afgehaal en vir die tempelbou-projek geskenk. Gershon se beweging het ook al etlike pogings aangewend om ‘n hoeksteen vir die bou van die derde tempel op die Tempelberg te lê, maar die Israeli polisie het hulle daarvan weerhou omdat die Tempelberg in 1967 al aan die beheer van ‘n Moslem-komitee oorgegee is omdat twee van hulle groot moskees daar staan. Pogings om die Joodse tempel te bou, sal tot ‘n nuwe jihad deur militante Moslems teen die Jode aanleiding gee.

Sowel Gershon Salomon se groep as die Tempel-Instituut propageer die mening dat die herbou van die tempel en die volle eerbiediging van die Torah nie net in Israel se belang is nie, maar ‘n tydperk van vrede en harmonie vir die hele wêreld sal inlui. Hulle haal die volgende gedeelte uit Jesaja 2 en Miga 4 aan: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die Here!” (Jes. 2:2-5; vgl. Miga 4:1-3).

Uit ‘n ortodokse oogpunt is dit ‘n baie eerbare doelstelling om die tempel te herbou, en mens kan verstaan waarom die meerderheid Jode so opgewonde oor die tempelprojek is. Daar ontbreek egter ‘n baie belangrike aspek in hulle visie vir Israel en die wêreld, en dit is die feit dat die Torah en al die offers en feeste van die Ou Testament slegs ‘n voorbereidende rol op die koms van die Messias vervul het. Dit is alles in die Messias, Jesus Christus, vervul.

Dit is dus ‘n totale vergissing om te dink dat die herbouing van die tempel en die instelling van die wet die oplossing vir die wêreld se probleme en verdeeldheid is. Die skaduagtige gebruike van die wet kan Israel en die wêreld nie red nie – net die versoeningswerk van die Messias aan die kruis kan dít doen! Eers wanneer Hy van die troon van Dawid af uit Jerusalem regeer en die kennis van die Here die aarde oordek soos die waters die seebodem (Jes. 11:9), sal vrede heers en almal van hulle wapens ontslae raak en nuttige landbou-implemente daarvan maak. Israel sal eers hierdie uiters belangrike ontdekking moet maak voordat dit geestelik én materieel met hulle goed sal gaan.

Uit Daniël 9:26-27 is dit duidelik dat Israel ‘n duur prys sou betaal om die Messias te verwerp. Christene oor die hele wêreld moet bid dat meer Jode se oë sal oopgaan om Jesus as hulle Messias en Verlosser aan te neem. Eers wanneer die hele oorblyfsel van Israel Hom aanneem (Rom. 11:26), sal die beloofde Messiasryk begin.

Watchman Nee 17