Print

Studie van die Boek Sagaria

Written by Prof Johan Malan.

Inleiding tot Sagaria

Deur prof. Johan Malan[1]

“Sagaria” beteken “die Here onthou.” Sagaria se vader was die priester Berégja. Sy gesin was onder die bykans 50 000 Joodse ballinge wat in 536 v.C. uit die Babiloniese ballingskap na Jerusalem teruggekeer het. Sagaria was ‘n tydgenoot van Haggai die profeet, Serubbábel die goewerneur en Josua die hoëpriester (Esra 5:1-2; Sag. 3:1; 4:6; 6:11). Hy was tydens die begin van sy profetiese bediening ‘n jongman gewees (vgl. 2:4).

Die doel met Sagaria se boodskap was die volgende:

  • Om ‘n geestelike herlewing in Israel in die hand te werk (1:2-3) en om diegene wat, soos hulle vaders, hulleself nie tot die Here wou bekeer nie, ernstig te waarsku (1:4).
  • Om die volk aan te moedig om met die werk van die Here te volhard en die herbouing van die tempel te voltooi (1:16; 4:9).
  • Om die terugkerende Jode wat onder strawwe beproewings en aanslae gebuk gegaan het, te vertroos (1:12-14).
  • Om Israel te oortuig van die feit dat hulle slegs deur die Heilige Gees die weë van die Here kan verstaan en Hom opreg kan dien (4:6; 7:12; 12:10).
  • Om aan hulle te openbaar dat hulle Messias as ‘n nederige Persoon sou kom om hulle te red, maar dat hulle Hom sou verwerp en deurboor, en dat Hy eers by ‘n volgende geleentheid deur die hele volk aanvaar sou word (9:9; 12:10; 13:1,9).
  • Om die triomfantelike koms van die Messias na Jerusalem te beskryf, wat in mag en heerlikheid geopenbaar sal word om saam met sy heiliges oor die aarde te regeer (14:4-5,9). In Hom sal alle profesieë van toekomstige seën finaal vervul word.
  • Om die feit te bevestig dat swaar oordele van die Here oor die vyande van Jerusalem uitgestort sal word, omdat hulle ook die vyande van God en sy koninkryk is (14:2-3,12-13).
  • Om aspekte van die geestelik herstelde Israel te beklemtoon, wat deur alle nasies geëer sal word wanneer lede van dié nasies in die millennium na Jerusalem sal optrek om die aangesig van die Here te soek en die loofhuttefees te vier (8:20-23; 14:16).

George Robinson het in die International Standard Bible Encyclopaedia die volgende stelling gemaak: “Sagaria is die mees Messiaanse, die mees waarlik apokaliptiese en eskatologiese geskrif van al die boeke in die Ou Testament.” Die Messiaanse stellings in dié boek word dikwels in die Nuwe Testament aangehaal.

Historiese agtergrond

Die val van die koninkryke van Juda en Israel, asook hulle herstel uit die ballingskap, vorm die historiese agtergrond vir hierdie boek. Die Assiriërs het in 722 v.C. ‘n einde aan die noordelike koninkryk van Israel gebring, terwyl Nebukadnésar die suidelike koninkryk van Juda in 586 v.C. vernietig het. Baie van Jerusalem se inwoners is vir 70 jaar lank as ballinge na Babilon weggevoer (Jer. 25:11; 29:10). Gedurende hierdie ballingskap het die profeet Daniël die openbaring ontvang dat Israel deur heidense nasies oorheers en onderdruk sou word totdat die koninkryk van die Messias in Jerusalem gevestig is (Dan. 2 & 7). Die Bybel verwys na hierdie lang tyd van Israel se onderwerping as “die tye van die nasies” (Luk. 21:24).

Dit is baie belangrik om in gedagte te hou dat Sagaria se profesieë aan die verenigde volk van Israel, bestaande uit al 12 die stamme, gerig word. Hulle was nie meer ‘n verdeelde volk nie. Daar is ongelukkig mense wat dink dat die sogenaamde tien verlore stamme van Israel na Europa getrek en die stamvaders van die Westerse nasies geword het. Dié mense beweer dat net Jode van die stamme van Juda en Benjamin uit Babilon na Jerusalem teruggekeer het. Die groepe wat teruggekeer het, was egter verteenwoordigend van al 12 die stamme. Die volgende is belangrikste feite wat hierdie stelling staaf:

Daar was nooit ‘n rigiede verdeling tussen die twee en die tien stamme van Israel gewees nie. Die noordelike ryk van Israel is gedurende die 250 jaar van sy bestaan deur 19 goddelose konings regeer. Daar was nie eers een godvresende onder hulle nie. Hierdie konings was só onbevoeg en boos dat baie van hulle onderdane na die suidelik ryk van Juda verhuis het (2 Kron. 11:14-17).

Wanneer die gelowige Israeliete gehoor het dat daar ‘n godvresende koning in Juda regeer het, soos bv. koning Asa, het hulle permanent na hom toe oorgeloop: “Daarop vergader hy die hele Juda en Benjamin, ook die vreemdelinge wat uit Efraim en Manasse en uit Simeon by hulle was; want uit Israel het hulle in menigte na hom oorgeloop toe hulle sien dat die HERE sy God met hom was” (2 Kron. 15:9).

‘n Ander rede vir die voortgesette versterking van Juda en die drastiese verswakking van Israel, was oorlogvoering. Koning Asa se vader, Abia, het teen Israel geveg en 500 000 van Israel se soldate het gesneuwel (2 Kron. 13:17-18). Binne 20 jaar het die weermag van Juda van net 180 000 (1 Kon. 12:21) tot 580 000 gegroei (2 Kron. 14:8). Ná 40 jaar het Juda ‘n gedugte weermag van 1 160 000 soldate gehad (2 Kron. 17:14-18). In teenstelling hiermee het Israel se weermag tot ‘n skamele 7000 manskappe gekrimp (1 Kon. 20:15). Dit is onmoontlik om die dramatiese toename in Juda se weermag net aan natuurlike aanwas toe te skryf. Die groot volksverhuisings uit Israel is hiervoor verantwoordelik, wat beteken dat Juda met die verloop van tyd weer verteenwoordigend van al twaalf die stamme geword het.

Mense skep soms op grond van 2 Konings 17:18 die misleidende indruk dat die hele Israel in 721 v.C. na Assirië weggevoer is. Salmanéser V (726-722 v.C.) het die laaste koning van die tienstammeryk, Hosea, gevange geneem en die hoofstad Samaria beleër. Sargon II (721-705 v.C.) deel in sy annale mee dat hy aan die begin van sy koningskap, in sy eerste regeringsjaar, Samaria ingeneem en 27 290 inwoners weggevoer het (kyk 2 Konings 17:1-6). In werklikheid is net die leiers en vooraanstaande families van Israel weggevoer, sodat die leierselement daarvan weg was. Die arm mense, wat ver in die meerderheid was, het agtergebly. Dit was ook die geval met die Babiloniese ballingskap van die suidelike koninkryk 134 jaar later (2 Kon. 24:14-16 en 25:11-12).

Die vergesogte bewering deur die Israelvisie-beweging dat die 27 290 ballinge na Europa toe getrek en die stamvaders van al die blanke nasies van die Westerse wêreld geword het, moet ook beantwoord word. Dit is ‘n histories bewese feit dat daar in hierdie tyd glad nie so ‘n volksverhuising plaasgevind het nie. Daar is geen verlore stamme van Israel wat die stamvaders van die Europeërs geword het nie. Die Europese volke stam van Jafet af (Gen. 10:2-5) en is glad nie Semiete nie!

In 2 Konings 17:6 word die stede in die Assiriese ryksgebied genoem waarheen die ballinge weggevoer is. In 612 v.C. is Assirië deur die Babiloniërs oorwin en het hulle grondgebied deel van die Babiloniese ryk geword. Die profeet Eségiël wat in 597 v.C. saam met Jójagin deur Nebukadnésar na Babilonië weggevoer is, het in Tel-Abib by die Kebarrivier gewoon. Hier het hy ook die ballinge van Israel aangetref, oor wie die Here met hom gepraat het (Eseg. 2:3; 3:14-17).

‘n Groep van die tien stamme van Israel was dus in Assirië (wat later by Babilonië ingelyf is), ‘n ander groep het in Samaria agtergebly, terwyl ‘n groot groep reeds na Juda verhuis het. Die twee huise van Israel (die tien stamme en die twee stamme) het sedert die Babiloniese ballingskap van Juda dieselfde geskiedenis gehad en word daarna as een volk beskryf. ‘n Jaar ná Eségiël se besoek aan die ballinge in Tel-Abib sê hy: “Ag Here HERE, gaan U die hele oorblyfsel van Israel vernietig deurdat U u grimmigheid oor Jerusalem uitgiet? Toe sê Hy vir my: Die ongeregtigheid van die huis van Israel en van Juda is buitengewoon groot, en die land is vol bloedskuld, en die stad is vol regsverbreking” (Eseg. 9:8-9).

Daar is geen Bybelse óf betroubare buite-Bybelse bronne wat enige melding van Israel se beweerde uittog na Europa maak nie. Selfs 160 jaar ná die Assiriese ballingskap van Israel word daar geskryf: “En die kinders van Israel het gewandel in al die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het, hulle het daar nie van afgewyk nie; totdat die HERE Israel van sy aangesig verwyder het soos Hy gespreek het deur al sy diensknegte, die profete; en Israel is in ballingskap uit sy land weggevoer na Assirië tot vandag toe” (2 Kon. 17:22-23).

Die feit dat Israel en Juda saam in die Assiries/Babiloniese gebied verdruk is, en ook daar ingeperk is, word deur Jeremia bevestig: “So sê die HERE van die leërskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek. Maar hulle Verlosser is sterk, HERE van die leërskare is sy Naam” (Jer. 50:33-34).

Dit is hieruit duidelik dat Assirië én Babilonië geweier het om die ballinge te laat trek. Hulle is dus ook nie toegelaat om Europa toe te trek nie! Die opdrag om te trek het eers gekom nadat die mag van Babel in 539 v.C. deur die Persiese koning, Kores, verbreek is. Hy het die ballinge na hul eie land laat teruggaan (Esra 1:2-3).

Dit was dus die wil van die Here, die God van Israel, dat die hele volk uit die ballingskap na hulle eie land terugtrek, en dat slegs Jerusalem as hulle gemeenskaplike hoofstad herbou sou word (vgl. Eseg. 37:21-22). Die Bybel is ook baie duidelik daaroor dat lede van die hele Israel (m.a.w. al 12 die stamme wat weggevoer is) uit die ballingskap teruggekeer het (Esra 2:70; 3:1-2; 6:21; 7:7-13; 10:1-5). Daar is geen verlore stamme van Israel nie!

Die klein groepies Jode wat nie na hulle eie land wou terugkeer nie, het ná die val van die Babiloniese ryk na verskeie lande in Asië en Europa verstrooid geraak. Die meeste van hulle het hul identiteit as Jode behou en verkies om nie met lede van ander nasies te ondertrou nie. Hulle het ook sinagoges gebou om hulle tradisionele godsdiens te beoefen. Paulus het sulke groepe Jode op sy sendingreise besoek. Hulle getalle het ná die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. aansienlik toegeneem.

Wat die benaming Juda betref, moet daarop gewys word dat dit die koninklike stam onder die 12 stamme van Israel is, waaruit ook die Messias, Jesus Christus, gebore is. Dit is dus logies dat al die stamme met Juda sal identifiseer. Soos reeds genoem, het dit voor die Babiloniese ballingskap al gebeur dat groot groepe uit die noordelike 10 stamme by Juda aangesluit het. Ná die ballingskap, vroeg in die 6de eeu v.C. het die term Jode gevestig geraak as ‘n sinoniem vir Israel. In die boeke Esra en Nehemia wat kort ná die ballingskap geskryf is, word die begrippe Jode en Israel afwisselend en alternatiewelik vir dieselfde volk gebruik (Esra 6:8, 16-17, 21; Neh. 1:6; 4:1).

In sy boek wissel Sagaria ook die terme Jood en Israel af wanneer hy na die herstelde volk verwys. Hy sê dat Israel ná al die lyding en vyandigheid wat hulle ervaar het, uiteindelik ten volle herstel en geestelik lewend gemaak sal word. Dan sal hulle aanvaar en grootliks geëer word deur die nasies wat self in die millennium die Messias sal dien: “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (8:23). In 9:1 en 12:1 verwys Sagaria na dieselfde volk as Israel.

Die situasie wat ná die ballingskap deur Sagaria beskryf word, is dié van ‘n verenigde Israelse volk wat deur die moeilike uitdaging gekonfronteer is om die verwoeste stad en tempel te herbou. Nadat die Babiloniese ryk in 539 v.C. deur die Medo-Persiese ryk ingeneem is, het Kores toestemming gegee dat die Jode kon terugkeer om Jerusalem en die tempel te herbou (Esra 1:2-4; 2 Kron. 36:22-23). Hulle het in 536 v.C. teruggekeer. Offers is spoedig op ‘n herstelde brandofferaltaar gebring (Esra 3:1-6), en in die tweede jaar is die fondament van die tempel gelê (Esra 3:8-13; 5:16). Naburige volke, veral die Samaritane, het die werk in Jerusalem teëgestaan. Hierdie opposisie, tesame met die groot armoede waarin die Jode uit die ballingskap verkeer het, het hulle geesdrif ondermyn en uiteindelik daartoe gelei dat die werk van heropbouing vir 16 jaar lank gestaak is totdat die Persiese koning, Darius, aan bewind gekom het. In die tweede regeringsjaar van Darius (520 v.C.) het God vir Haggai as profeet opgewek om die volk aan te moedig om die tempel verder te herbou (Esra 5:1-2; Hag. 1:1). Sagaria het hulle ook tot geestelike vernuwing opgeroep, en tot die voltooiing van die tempel, deurdat hy God se toekomstige plan met Israel en Jerusalem aan hulle bekend gemaak het. Die volk is grootliks hierdeur bemoedig en het en het die tempel in 515 v.C. voltooi.

Struktuur van die boek

Die volgende onderwerpe word in Sagaria behandel:

1.    Inleiding (1.1).

2.    Die oproep tot bekering (1:2-6).

3.    Die agt naggesigte (1:7–6:8).

4.    Simboliese daad van die beëindiging van die gesigte (6:9-15).

5.    Die vier verduidelikende boodskappe (hfst. 7–8).

6.    Die eerste openbarende godspraak: die gesalfde Koning word verwerp (hfst. 9–11).

7.    Die tweede openbarende godspraak: die verwerpte Koning keer na Jerusalem terug en word gekroon (hfst. 12–14).

Ná die aanvanklike oproep tot bekering (1:2-6), beskryf Sagaria ‘n reeks van agt profetiese naggesigte wat hy in ‘n enkele nag gesien het (1:7–6:8). Hierdie gesigte is openbarend van aard, met beeldende beskrywings van dit wat die toekoms inhou, sodat die volk in die lig daarvan bemoedig kon word. Volgens Walvoord & Zuck se kommentaar (ibid.) het die naggesigte die volgende basiese betekenisse:

Naggesig

Betekenis

Die ruiter op die rooi perd tussen die mirtebome (1:7-17)

God se toorn oor die nasies en sy seëninge vir die herstelde Israel

Die vier horings en die vier smede (1:18-21)

God se oordeel oor die nasies wat vir Israel onderdruk

Die man met die meetsnoer (hfst. 2)

God se toekomstige seëninge oor die herstelde Jerusalem en Israel

Die reiniging en toewyding van Josua, die hoëpriester (hfst. 3)

Israel se toekomstige reiniging van sonde en hulle herstel as ‘n priesterlike volk

Die goue kandelaar en die twee olyfbome (hfst. 4)

Israel as ‘n lig vir die nasies onder die Messias, die Priester-Koning

Die vlieënde boekrol (5:1-4)

Die felheid en omvang van goddelike oordele oor individuele Israeliete

Die vrou in die efa (5:5-11)

Die verwydering van Israel se nasionale sondes en rebellie teen God

Die vier strydwaens (6:1-8)

Goddelike oordeel oor die nasies

 

God se liefde vir sy volk Israel is uit hierdie beskrywings baie duidelik. Hy het beloof om hulle in hul land te herstel en Jerusalem tot ‘n lof op aarde te maak (Sag. 1:16; Jes. 62:6-7). Die Messias, Jesus, is die Middelaar deur wie hierdie beloftes van seën aan Israel vervul sal word. Die Here sal nie vir Israel bloot op grond van hulle afkoms seën nie. Diegene onder hulle wat die Messias verwerp, sal in ‘n groot verdrukking beland, waaruit net ‘n gelowige oorblyfsel gered sal word (13:8-9).



[1] In sy studie van Sagaria het die outeur ruim van die volgende bronne gebruik gemaak: F.D. Lindsey (Zechariah, in: J.F. Walvoord & R.B. Zuck, red., The Bible Knowledge Commentary) en D.E. Malan (Bybelstudie oor Sagaria). Skrifaanhalings kom uit die 1933 vertaling van Die Bybel, soos in 1953 hersien.

 

Sagaria 1: Die Here Ontferm Homself oor Jerusalem

Die boek Sagaria handel oor die geestelike herstel van die volk Israel én hulle hoofstad, Jerusalem – nie net in Sagaria se tyd nie, maar veral in die eindtyd ná die Messias se tweede koms. God se oordele oor sy vyande word ook beskryf, en dit is duidelik dat hulle ook vyande van die volk Israel is.

“In die agtste maand, in die tweede jaar van Darius, het die woord van die HERE gekom tot Sagaria...” (1:1). Hierdie vers openbaar die tyd, die goddelike bron én die menslike instrument van die openingsoproep tot bekering. Die spesifieke dag in die agtste maand, wat op 27 Oktober 520 v.C. begin het, is belangrik omdat die Joodse profeet sy profesie ooreenkomstig die regeringstyd van ‘n heidense koning dateer. Hierdeur is Sagaria se hoorders aan die feit herinner dat die tye van die nasies reeds ‘n aanvang geneem het, en dat daar nie ‘n afstammeling van Dawid op die troon in Jerusalem regeer nie. Verder is dit ook duidelik dat Sagaria net die persoon was wat die profesie uitgespreek het – hy was nie die oorsprong daarvan nie, omdat die woord van die Here tot hom gekom het (vgl. 2 Pet. 1:21). As profeet was hy net ‘n dienskneg en woordvoerder wat deur die Here geroep en gesalf is om sy woord aan die volk te verkondig.

Keer na die Here terug! (1:2-6)

‘n Ernstige waarskuwing word aan Israel gerig om nie met die ongehoorsaamheid van hulle vaders voort te gaan nie, omdat hulle daardeur die toorn van die Here teen hulle opgewek het. Hulle moes liewer van sy genade gebruik maak en tot bekering kom: “Die HERE was baie vertoorn op julle vaders... Keer terug na My, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal na julle terugkeer... Moenie soos julle vaders wees nie... Bekeer julle tog van julle bose weë” (1:2-4). Terwyl die sondes van hulle vaders tot die verwoesting van die tempel en Jerusalem gelei het, asook die Babiloniese ballingskap van die volk, het hulle eie sondes tot ‘n vertraging in die herbouing van die stad en die tempel gelei, en tot die sukses van hul vyande wat hulle aangeval en ontmoedig het. Indien hulle nie van harte tot bekering kom nie, sou hulle die teenwoordigheid en seën van die Here verbeur en sy toorn oor hulle laat ontvlam. Hy sou Homself dan weer van Israel onttrek en hulle aan hul vyande oorgee.

Die erns van die situasie is deur twee vrae aan hulle gestel, waardeur die kortstondigheid van die lewe beklemtoon is, asook die noodsaaklikheid om so gou as moontlik op die Here se oproep tot bekering te reageer: “Julle vaders – waar is hulle?” (1:5). Hulle het deur die swaard, hongersnood, pessiektes en aan natuurlike oorsake gesterf, soos deur die profete voorspel is. “En sal die profete vir ewig lewe?” (1:5). Die geïmpliseerde antwoord is ‘nee.’ Hulle bediening was van korte duur, daarom moes die geleentheid wat hulle vir bekering gebied het, nie geïgnoreer word nie.

Die voorwaarde vir die seëninge van die Here, soos deur die profete verkondig, is ‘n heelhartige bekering tot die Here. Hulle moes nie ongehoorsaam aan hierdie oproep wees, soos die vorige geslag wat as gevolg van God se oordele as ballinge weggevoer is nie.

Bekering was nie net in die Ou Testament vir Israel die sleutel tot die ontvang van vergifnis en die seëninge van die Here nie, maar is ook in die Nuwe Testament ewe nodig. Paulus sê: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Hand. 17:30). Deur bekering wend ‘n verlore sondaar homself in die geloof tot God om vergifnis van sondes te verkry, deur die wedergeboorte geestelik lewend gemaak te word, en om met die Heilige Gees vervul te word om die Here te kan dien.

God het die doodstraf oor alle sondaars bepaal: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eseg. 18:4; vgl. Rom. 6:23). Om hierdie rede kan daar geen vergifnis sonder bloedvergieting plaasvind nie (Heb. 9:22; vgl. Lev. 17:11). Die Messias, Jesus Christus, is die Lam van God wat sy bloed gestort en aan die kruis gesterf het toe Hy vir ons sonde versoening gedoen het (Joh. 1:29; Rom. 3:25). Voor die koms van die Messias moes die Israeliete diere vir hulle sondes offer, wat tipologies op die toekomstige offer van die Messias gedui het. Omdat die wet egter net ‘n skaduwee van die toekomstige weldade was, moes die Ou Testamentiese offers oor en oor herhaal word totdat die eenmalige offer van die volmaakte Lam van God in die volheid van die tyd gebring is (Heb. 10:1-18).

Onder die ou verbond was dit nogtans noodsaaklik om die herhalende diere-offers te bring, omdat mense se sondes voorlopig vergewe is, hangende die koms en offer van die Messias. Die wet en sy voorgeskrewe offers is alles in die Messias vervul (Matt. 5:17). Paulus het gesê: “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4). Die voortsetting van Ou Testamentiese diere-offers in die voorhof van die tempel was noodsaaklik omdat dit bekering van die mense geëis het, dit het die beginsel beklemtoon dat daar geen versoening sonder bloedvergieting is nie, en het daardeur die Messiaanse hoop van die volk lewendig gehou. Aangesien dit onmoontlik vir die bloed van stiere en bokke was om die sonde weg te neem (Heb. 10:4), het die gelowiges in Israel die verlossing verwag wat net die Lam van God (die Messias) vir hulle kon bring. Jesaja het gesê: “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom... Die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jes. 53:5-6).

Voordat die Messias gekom het, moes Israel die skaduagtige gebruike van die wet eerbiedig en beoefen. Daardeur het hulle die belofte van die komende Messias omhels, asook die toekomstige seëninge wat daar vir alle gelowiges sou wees. In die eeue wat kom, sal hulle ook, soos ons, in die Messias roem (Sag. 12:10), in sy versoening vir die sondes van die hele wêreld (Op. 5:9), in sy oorwinning oor die magte van die duisternis (Heb. 2:14-15), en in sy ewige seëninge vir al die gelowiges van alle tye (Heb. 11:13,39-40).

In die Ou Testament was die verwaarlosing van die tempeldiens altyd ‘n aanduiding daarvan dat Israel geestelik teruggeval het, omdat hulle opgehou het om na die wet te luister wat hulle van sonde oortuig het, en dus ook met die belydenis van sonde wat altyd met hulle offers en gebede vir seën gepaard gegaan het. Hulle het die Here vergeet en in sonde begin leef. ‘n Terugkeer na die Here het altyd die herstel van die tempeldiens behels, van die daaglikse offers, die lees van die wet en die profete, en ‘n nuwe oorgawe om die Heilige van Israel te gehoorsaam en te dien, omdat net Hy magtig is om te red.

Dit is die rede waarom die herbouing van die tempel en die herstel van die tempeldiens so belangrik vir die Jode was wat uit die ballingskap teruggekeer het. Sagaria het hulle sterk aangemoedig om hulleself aan hierdie groot taak toe te wy. ‘n Belangrike deel van sy motiveringsboodskappe was die belofte van die Messias se koms. Al die diere-offers sou in Hom vervul word, omdat Hy vir Israel se ongeregtighede deurboor sou word (12:10). Hy sal die Priester-Koning van Israel én die hele wêreld wees (14:9).

Die ruiter op die rooi perd tussen die mirtebome (1:7-17)

Sagaria het in ‘n enkele nag agt gesigte gesien wat die toekoms van Israel beskryf, en wat deur ‘n engel aan hom verklaar is. Hierdie gesigte was nie drome nie, want die profeet was volkome wakker en bewus van wat hy gesien het. Hy het as gevolg van die gesigte soms moeg geword en aan die slaap geraak, sodat die engel hom weer moes wakker maak (4:1). Die gesigte beskryf God se seëninge oor die eeue heen, vanaf die herbouing van die tempel in Sagaria se tyd tot met die herstel van Israel se koninkryk onder die Messias.

Die ruiter op die rooi perd tussen die mirtebome word as die Engel van die Here geïdentifiseer – dit is ‘n Ou Testamentiese verskyning van die Messias voor sy menswording. Die kleur van die perd word in die Afrikaanse Bybel verkeerdelik as bruin aangetoon terwyl dit, soos in die meeste Engelse Bybels, as rooi beskryf moet word. Die Hebreeuse woord ‘adom beteken volgens die Strong’s konkordansie red, ruddy. Hierdie kleur sinspeel nie alleen op die bloed van Christus nie, maar stel ook goddelike oordele en oorlogvoering voor (vgl. Jes. 63:1-6).

Hierdie ruiter is deur engele op rooi, gespikkelde (KJV speckled) en wit perde gevolg. Rooi simboliseer oorlog, bloedvergieting en oordeel. ‘n Gespikkelde perd (rooi met wit kolletjies) dui op ‘n sending van oordeel én genade. Wit stel reinheid en oorwinning voor. Die mirtebome in die diepte (‘n diep kloof) simboliseer die volk Israel in hulle vernedering, lyding en vertrapping. Dit is tipies van hulle versonke toestand tydens die lang periode van die tye van die nasies.

Die engele-ruiters is gestuur om die aarde te gaan verken en oor hulle bevindings verslag te doen. Hulle het die aarde deurkruis en bevind dat almal stil en rustig was. Dit was nie goeie nuus nie, want Sagaria het geweet dat die herstel van Israel se koninkryk deur wêreldwye oorloë en die neerwerping van aardse koninkryke voorafgegaan sal word (14:2), soos ook deur Haggai bevestig (Hag. 2:21-22). Tydens Sagaria se profesieë was daar geen teken van die nabyheid van Jerusalem se finale herstel en redding nie. Dit verklaar die vraag in vers 12: “HERE van die leërskare, hoe lank nog bly U sonder ontferming oor Jerusalem...?”

Dit moes vir Sagaria vertroostend gewees het dat die Here self in die laagte tussen die mirtebome was. Hy is steeds in die midde van sy volk gedurende hulle lyding en verwerping deur die heidennasies. Hy sal hulle nie verlaat nie, maar volgens sy beloftes volkome herstel. Vanaf vers 13 tot 17 word trooswoorde aan Jerusalem gerig. Die Here ywer oor Jerusalem (1:14), Hy het hulle verkies (3:2) en sal nie toelaat dat hulle uit sy hand geruk word nie. Hierdie woorde van vertroosting is die volgende:

“Ek wend My met ontferming tot Jerusalem.” Dit was waar in Sagaria se tyd toe die Here Israel gehelp het om Jerusalem en die tempel te herstel nadat sy heerlike teenwoordigheid vroeër die tempel en die stad verlaat het (Eseg. 10:18-19; 11:22-23). Hierdie belofte verwys egter ook na die tyd wanneer die Messias permanent na Jerusalem sal terugkeer om gedurende die millennium van dié stad af te regeer (vgl. Jes. 2:1-4; Jer. 3:17). Die heerlikheid van die Here sal dan die tempel en die stad vervul (Eseg. 43:5; 48:35).

“My huis sal daarin gebou word.” Dit sien eerstens op die herbouing van die tempel in Sagaria se tyd, maar dui ook op die bou van die laaste tempel gedurende die millennium (Eseg. 40–44).

“’n Meetsnoer sal oor Jerusalem gespan word.” Dit dui op die vooruitgang en uitbreiding van Jerusalem, veral tydens die duisendjarige vrederyk wanneer dit die hoofstad van die wêreld sal wees waar alle nasies die Here sal dien en aanbid (Sag. 8:20-22; vgl. Jer. 31:38-40; Hand. 15:16-17).

“Die HERE sal Sion weer vertroos, en Hy sal Jerusalem weer verkies.” Wanneer die Messias weer kom, sal Hy sy genadige beloftes aan Israel en Jerusalem vervul (vgl. Jes. 12:1; 62:6-7; Rom. 11:26-29). In die tyd van Sagaria is die Jode net in ‘n beperkte mate vertroos. Dit is duidelik dat die Here se volle seën en vertroosting eers oor hulle uitgestort sal word nadat hulle deur die Messias ‘n nuwe verbond met God gesluit het (vgl. Jer. 31:31-37; Heb. 8:10-12; Eseg. 36:22-38).

Die vier horings en die vier smede (1:18-21)

Die tweede gesig toon God se oordeel oor die nasies wat vir Israel vervolg. Horings is simbolies van mag en verwys meesal na heidense konings (vgl. Dan. 7:24; Op. 17:12). Die koninkryke waarna hier verwys word, is vyandig teenoor Israel, daarom die stelling: “Dit is die horings wat Juda so verstrooi het” (1:21). Die vier smede is magte wat deur God opgewek is om die nasies (of horings) te vernietig wat teen Israel geveg het.

Die vier horings mag dalk na al Israel se vyande uit die vier hoeke van die aarde verwys, of, meer waarskynlik, na die vier diere wat in Daniël 7 beskryf word, omdat hulle dieselfde rol vervul het as dit wat aan die vier horings toegeskryf is. Hierdie vier diere stel die Babiloniese, Medo-Persiese, Griekse en Romeinse ryke voor, wat Israel gedurende die tye van die nasies beveg, onderdruk en verstrooi het. Diegene wat hierdie vertolking van die gesig verwerp, sê gewoonlik dat die laaste twee koninkryke nie in Sagaria se tyd bekend was nie, omdat die mense van daardie tyd net van die Babiloniese en Medo-Persiese ryke geweet het – die ander twee was nog toekomstig. Ons weet egter dat die naggesigte nie net tot Sagaria se tyd beperk was nie, maar na die totale tydperk van oorheersing deur die nasies verwys.

Die vier smede wat ná die horings gesien is, is opeenvolgende magte wat deur God gebruik is om die koninkryke te vernietig wat teen Israel opgetree het. Ons weet dat die Medo-Persiese ryk die Babiloniërs onderwerp het. Nadat hulle as ‘n smid deur die Here gebruik is, het hulle self ‘n horing geword wat teen die koninkryk en volk van God geveg het. Op ‘n soortgelyke wyse is die Griekse ryk gebruik om die Medo-Persiese ryk te verslaan, terwyl die Romeinse ryk weer die Griekse ryk beëindig het. Die Romeinse ryk is in twee dele verdeel (oos en wes) en is nooit deur ‘n ander wêreldryk vervang nie. In die eindtyd sal die herstelde Romeinse ryk, wat ‘n herlewing van al die antieke heidense koninkryke sal wees, onder die leiding van die Antichris se beheer staan en deur die Messias vernietig word wanneer Hy sal kom om Israel se koninkryk op te rig (Sag. 14:2,12-13; Op. 19:19-21).

Ons kry ook ‘n aanduiding van hoe erg hierdie nasies die Jode vervolg het. Hulle het “Juda so verstrooi dat niemand sy hoof opgehef het nie” (1:21). Die ophef van iemand se hoof dui op krag en moed. Die verstrooide Jode het egter gedurende die tye van die nasies geen krag gehad nie omdat hulle geheel en al deur verskeie heidennasies onderwerp is.

Die feit dat Israel ná so baie jare weer in hulle land terug is, in beheer van Jerusalem is, en ook die vermoë het om hulleself suksesvol teen hulle vyande te kan verdedig, is ‘n sekere teken dat die tye van die nasies amper verby is en dat die koms van die Messias op hande is. Omdat Israel hulleself as volk nog nie tot God bekeer het deur die Messias as Verlosser aan te neem nie, is hulle probleme beslis nog nie verby nie. Die ergste lê nog in die komende verdrukking onder die valse messias vir hulle voor.

Toe die Messias tydens sy eerste koms deur Israel verwerp is, het Hy reguit aan hulle gesê dat hulle op ‘n koers is waarin hulle uiteindelik ‘n verbond met die valse messias sal sluit (Joh. 5:43). Wanneer hy ‘n beeld van homself in die herboude tempel in Jerusalem laat oprig, sal hy alle Jode probeer ombring wat hulle verbond met hom verbreek het. Jesus het gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom... dan moet die wat in Judea is na die berge vlug... Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes [Israel] sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:15,16,21,22).

Sagaria beskryf hierdie onvergelyklike, eindtydse vyandigheid teenoor Israel (12:2-3), asook die feit dat twee-derdes van alle Jode in die vurige vervolging van daardie tyd sal omkom (13:8). Die Here sal nie net die nasies gebruik om Israel weens hulle voortgesette ongeloof te straf en te verdruk nie – Hy sal ook die nasies oordeel omdat hulle Israel gehaat en selfs vervloek het, en elke geleentheid gebruik het om hulle te vervolg en uit hulle land te verdryf (Joel 3:2; vgl. Gen. 12:3).

Wanneer sal Israel en die nasies op die ernstige en dikwels herhaalde oproep tot bekering ag slaan? Die Here red, vertroos en seën net diegene wat hulle met hulle hele hart tot Hom bekeer. Dié wat weier om dit te doen, leef in rebellie teenoor Hom en bly gevolglik die voorwerpe van sy toorn: “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam?” (Heb. 2:3). Die ongeredde mense moet weet dat dit vreeslik is om te val in die hande van die lewende God (Heb. 10:31). Hy is óf jou Redder óf jou Regter – jy het die keuse. “Bekeer julle tog van julle bose weë en julle bose werke; maar hulle het nie gehoor en na My nie geluister nie, spreek die HERE” (1:4).

 

Sagaria 2. Die Messias Kom in Jerusalem Woon

Die volgende naggesig handel oor God se toekomstige seëninge oor die herstelde Israel:

Die man met die meetsnoer (2:1-13)

Die goddelike oordele oor die nasies, soos in die vorige gesig geopenbaar, sal gevolg word deur God se vergroting en beskerming van Jerusalem. Die herstel en uitbreiding van die stad is reeds vir Sagaria se tyd beloof, maar hierdie beloftes dui meer spesifiek op die eindtydse uitbreiding daarvan nadat die Messias se koninkryk geopenbaar is. Aspekte wat beklemtoon word, is die stad se toename in grootte, die aantal inwoners daarvan, die vlak van sy rykdom, die geestelike herlewing van sy inwoners, en sy veiligheid.

Vir ons as Christene is profesieë van hierdie aard ook baie belangrik omdat dit God verheerlik en die vestiging van sy koninkryk beklemtoon, asook die groot oorwinning oor die magte van die duisternis. Ons is nie op Israel of Jerusalem afgunstig wanneer ons hierdie boodskappe lees nie, omdat die fokus nie op Israel is nie, maar op God en sy heerlikheid. Jerusalem is die stad wat deur God verkies is om sy Naam daar te vestig tot in ewigheid (1 Kon. 9:3; 11:36). Hy het Israel verkies om sy verlossing deur hulle en hulle beloofde Messias aan die hele wêreld te openbaar (Jes. 9:6-7; 49:5-6; Joh. 4:22; Rom. 9:4-5), en het ook sy Woord aan hulle toevertrou (Rom. 3:1-2). In die lig van die groot betekenis wat hierdie feite vir die hele mensdom het, het Sagaria gesê: “Swyg alle vlees voor die HERE! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning” (2:13).

Die man met die meetsnoer is ongetwyfeld dieselfde persoon as die ruiter op die rooi perd in die eerste gesig. Dit is die Messias voor sy menswording, wat as die Engel van die Here in sommige van hierdie gesigte verskyn het. Hy het gekom om Jerusalem op te meet om sy grootte, rykdom en geestelike standaard te bepaal omdat Hy groot planne vir die stad het (2:11). Sy boodskap is eerstens aan die jongman, Sagaria, gerig (2:4), daarna aan Israel (2:6-12), en laastens aan die hele mensdom (2:13).

Weens die menigte van mense sal Jerusalem ‘n stad sonder mure wees (2:4). Hierdie profesie is nie in Sagaria se tyd vervul nie, en ook nie in die jare wat direk op sy bediening as profeet gevolg het nie, daarom het dit op die Messiaanse era betrekking wanneer groot en wonderlike dinge in Jerusalem sal gebeur.

Die stad sal as gevolg van goddelike seëninge ver buite sy vorige grense uitbrei, en gevolglik ‘n oop stad sonder mure wees. As gevolg van die Here se teenwoordigheid sal die stad geen versterking of beskerming nodig hê nie. Die Here sal vir die stad soos ‘n vurige muur rondom wees, en tot heerlikheid daarbinne (2:5). Hierdie belofte kyk vooruit na die Here se persoonlike teenwoordigheid deur die Messias, gedurende sy duisendjarige vrederyk op aarde. Esegiël het die toekomstige terugkeer van die Here se heerlikheid na die tempel gesien (Eseg. 43:2-5), maar Sagaria het ‘n gesig gehad van die Here se heerlikheid wat die hele stad sal vervul (2:5) én ook die land (2:12; vgl. 14:20-21).

Esegiël se beskrywing van die heerlikheid van die Here in die tempel in Jerusalem is merkwaardig en sluit by die naggesig van Sagaria aan: “Toe het hy my gelei na die poort, die poort wat na die ooste kyk. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom; en die geruis daarvan was soos die geruis van baie waters, en die aarde het geglans van sy heerlikheid... En die Gees het my opgeneem en my in die binneste voorhof gebring; en kyk, die heerlikheid van die HERE het die huis vervul. En ek het Een gehoor wat met my spreek uit die huis... En Hy het vir my gesê: Mensekind, dit is die plek van my troon en die plek van my voetsole waar Ek vir ewig sal woon onder die kinders van Israel; en die huis van Israel sal my heilige Naam nie meer verontreinig nie, hulle en hulle konings” (Eseg. 43:1-7).

In die lig van die voorspoed en seëninge wat aan Jerusalem beloof is, en ook in die lig van die oordele wat oor die val van Babilon geprofeteer is, is die Jode wat steeds in ballingskap was, aangemoedig om na Jerusalem terug te keer, waar hulle veilig kon woon: “Op, op, vlug uit die Noordland... Op, o Sion, red jouself, jy wat woon by die dogter van Babel” (2:6-7). Babilon het inderdaad twee jaar later geval, maar die herstelde Babilon sal finaal val wanneer die Messias kom (Op. 18). Israeliete wat in Babilon woon, sal weer ontruim word kort voordat die stad val: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie... Met ‘n vaart sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie” (Op. 18:4,21). Die herstel van die Jode in hulle eie land in Sagaria se tyd was net ‘n voorspel tot die groot, eindtydse herstel van Israel in hulle land, wat met die geweldige vyandigheid van die omringende nasies gepaard sal gaan.

Jesaja het soos volg op die finale herstel van Israel uitgebrei: “En in dié dag sal die HERE weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sinear en Hamat en uit die kuslande van die see; en Hy sal ‘n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde” (Jes. 11:11-12; vgl. Jer. 23:3-8).

In Sagaria 2:8-9 verwys die gesant wat deur die Here uitgestuur is, na die Messias, die Een wat ook as die Engel van die Here beskryf word: “Want so sê die HERE van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak sy oogappel aan. Want kyk, Ek sal my hand oor hulle swaai, sodat hulle ‘n buit word vir hulle knegte. Dan sal julle weet dat die HERE van die leërskare my gestuur het.” In hierdie gedeelte in die Ou Testament sien ons duidelik dat die eerste Persoon in die Drie-enige Godheid, die HERE van die leërskare, die tweede Persoon aanspreek, wat die Messias of Gestuurde is (vgl. Joh. 20:21). Ons lees ook van die derde Persoon in Jesaja: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gestuur het om ‘n blye boodskap te bring” (Jes. 61:1).

In hierdie gesig van Sagaria word die Engel van die Here gestuur om die Babiloniese onderdrukkers van Israel te straf. Dié profesie sal sy finale vervulling tydens die wederkoms van Christus hê, wanneer Hy die vyande van Israel en van Jerusalem sal verdelg (14:3,12-13). Die herstelde Babiloniese ryk van die eindtyd (Op. 18), asook die Babiloniese alliansie van valse godsdienste (Op. 17), sal in die komende dag van die Here deur goddelike oordele verdelg word. Wanneer hierdie magtige Koning, die Messias, vir die tweede keer kom, sal Hy nie die nederige Dienskneg wees wat sy lewe vir die redding van sondaars afgelê het nie. Hierdie keer sal Hy in mag en heerlikheid kom om sy vyande te verdelg en sy volk Israel te red en te verheerlik. Sagaria beskryf Hom in sy volle Godheid wanneer hy sê: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg... Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U!” (14:4-5).

Dit sal ‘n dag van groot blydskap in Israel wees: “Jubel en wees bly, o dogter van Sion! Want kyk, Ek kom om in jou midde te woon, spreek die Here” (2:10). Die oorblyfsel van Israel sal die Messias aanvaar (12:10), van hulle sonde en ongeregtigheid gereinig word (13:1), en volmaakte vreugde ervaar wanneer Hy die troon van Dawid in Jerusalem herstel: “En opgerig is deur goedgunstigheid ‘n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, ‘n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid” (Jes. 16:5; vgl. Hand. 15:16-17).

By die wederkoms van Christus sal die oorblyfsel van die nasies ook gered word (Matt. 24:29-30) en almal die Messias dien wat uit Jerusalem sal regeer. Hulle sal rou bedryf voor Hom soos wat Israel ook sal doen wanneer hulle gered word (12:10). Hierdie nasies sal dan ook aan die Messias behoort en Hom van harte dien: “Baie nasies sal hulle in dié dag by die Here aansluit, en hulle sal My tot ‘n volk wees; en Ek sal in jou midde woon. Dan sal jy weet dat die Here van die leërskare My na jou toe gestuur het” (2:11; vgl. 8:21-22).

Jerusalem sal tydens die duisendjarige ryk van die Messias die sentrum vir wêreldsake wees (2:12). Behalwe dat dit die hoofstad van Israel sal wees, sal Jerusalem in die millennium ook die hoofstad van die hele wêreld wees. Jesaja sê: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:2-4; vgl. 24:23).

Wat ‘n wonderlike toekomsverwagting het Israel en die nasies nie! “Swyg, alle vlees voor die HERE! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning” (2:13). Ons moet egter duidelik begryp dat die toekomstige heerlikheid wat aan ‘n geredde oorblyfsel van Israel en die nasies gebied is, slegs deur ‘n minderheid van die mensdom geniet sal word. Die meeste mense in Israel én onder die nasies is boos en onbekeerlik. Selfs in relatief goeie tye het God in die meeste Israeliete geen behae gehad nie en hulle as gevolg van hulle sonde en ongeloof geoordeel (1 Kor. 10:5). Sagaria bevestig die feit dat die meeste van hulle in die komende verdrukking sal omkom (13:8). Dieselfde geld ook vir die nasies, onder wie net ‘n klein minderheid hulle weg deur die nou poort sal vind wat na die hemel lei (Matt. 7:13-14).

Die sleutelteks in Sagaria 2 is die volgende: “En die HERE sal besit neem van Juda as sy erfdeel op die heilige grond [letterlik: die Heilige Land] en Jerusalem weer verkies” (2:12). Daar is nie eers die geringste moontlikheid dat hierdie belofte vergeestelik en op die kerk toegepas kan word nie. Die geestelike herstel van ‘n oorblyfsel van Israel as ‘n volk sal in die Heilige Land gebeur, wat deur die Here as ‘n ewige besitting aan die stamvaders van die volk gegee is (Gen. 13:14-15; 26:3; 28:13). Vir hierdie wonderlike belofte om vervul te word, moet Israel in die eindtyd, voor die koms van die Messias, in hulle land herstel word. Die terugkeer van Israel na die land van hulle vaders het reeds die stadium bereik waarin 5,5 miljoen van die 13 miljoen Jode in die wêreld in hulle eie land terug is. Hulle is nou net soveel as die Amerikaanse Jode, en sal spoedig die grootste konsentrasie Jode in die wêreld wees. Dit sal besluite wat hulle neem en verbonde wat hulle namens die internasionale Jodendom sluit, wettig en bindend maak.

Sagaria gee ‘n duidelike en gevoelvolle beskrywing van Israel se rouklag ná die koms van die Messias (12:10-14), wat tot gevolg sal hê dat ‘n heilige volk in die Heilige Land sal leef (13:1-2; 14:20-21). Jerusalem, as die middelpunt van Israel se godsdienstige en politieke lewe, sal as die basis van hulle toekomstige teokratiese regering geheilig word. Die Here sal Jerusalem weer verkies en dit met veel meer heerlikheid beklee as wat die geval tydens Salomo se bewind was:

“Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad!” (Jes. 52:1). “Nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang... Die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel... Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie – van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof” (Jes. 60:3,14,18).

Die toekomstige heerlikheid van Jerusalem staan in skerp kontras met die vertrapte toestand van die stad gedurende die tye van die nasies. Die Here Jesus het gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Geredde lede van die nasies moet geen deel in die vertrapping en minagting van hierdie stad hê nie. Ons moet weet dat Jerusalem bestem is om die fokuspunt van die Messias se regering in die millennium te wees. In daardie tyd sal die geredde Israel én die geredde lede van die nasies uitroep: “Die HERE is groot en baie lofwaardig in die stad van onse God, sy heilige berg! Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde, is die berg Sion aan die noordekant, die stad van die Groot Koning!” (Ps. 48:2-3).

Sagaria sê: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek” (8:22). Hulle “sal jaar na jaar [na Jerusalem] optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier” (14:16).

Sien jy uit na hierdie wonderlike toekoms van Israel, Jerusalem en die hele Heilige Land? Indien wel, dan rus die verpligting op jou om Israel jaloers te maak oor die wyse waarop jy die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias dien (Rom. 11:11). Bid ook vir hulle herstel na hulle eie land, en vir die Here se beskerming en seën oor Jerusalem. Die psalmis sê: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” (Ps. 122:6).

 

Sagaria 3. Die Verlossing van Israel

Die eerste drie naggesigte beeld Israel se uiterlike redding uit die ballingskap, hulle fisiese herstel in die land, asook hulle materiële voorspoed uit. Die vraag wat nou ontstaan, is hoe ‘n heilige God sulke wonderlike planne met ‘n volk kan hê wat steeds deur sonde besmet is? Hy sal hulle eers moet reinig. Hierdie vierde gesig verduidelik Israel se innerlike reiniging van sonde, en hulle herstel in hul priesterlike amp en funksies.

Die geregtigheid van God waarvan die wet en die profete getuig, is ten volle in die Messias geopenbaar. Hy is die enigste Verlosser van die wêreld: “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Rom. 3:21-24). Lede van Israel en die nasies moet almal deur geloof in die Messias gered word (Rom. 3:30; 10:12; Hand. 15:8-9,11).

Reiniging en toewyding van Josua die hoëpriester (3:1-10)

“Josua” beteken “Die HERE Red,” en dit is die belangrikste tema van hierdie hoofstuk. Die deelnemers in die gesig is (a) Josua die hoëpriester wat saam met Serubbabel uit Babilon teruggekeer het; (b) die Engel van die Here, nl. Christus voor sy inkarnasie, wat reeds in 1:11-12 voorgestel is; (c) Satan, die aanklaer; (d) engele; en (e) die profeet Sagaria.

In hierdie gesig stel Josua die volk Israel voor, soos wat tipies van die amp van hoëpriester was. Hy het vir die volk ingetree, hy het namens hulle in die heiligdom ingegaan, en ook hulle sonde gedra om voor God te bely. Die toestand wat in hierdie gesig aan hom toegeskryf word, het dus meer op Israel betrekking as op homself. Die verteenwoordigende posisie van Josua word in vers 2 bevestig waar die Here vir Satan bestraf omdat hy vir Josua (of Israel) aankla. Die Here verwerp hierdie aanklagte omdat Hy Jerusalem en Israel verkies het.

Die beskrywing van Josua as ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is, verwys ook na Israel. Ná die Assiriese en Babiloniese ballingskap was Israel op die randjie van uitwissing sonder ‘n land, sonder ‘n eie regering, en met ‘n verwoeste tempel. Die Here het egter ingegryp, hulle uit die vuur geruk wat gedreig het om hulle te verteer, en hulle in hul land herstel. In die eindtyd, onder die bewind van die Antichris, sal Israel deur algehele uitwissing in die gesig gestaar word. Die Here sal weer tussenbeide tree en ‘n oorblyfsel van Israel in die woestyn behoue laat bly, waarna hulle die Messias sal ontmoet wanneer Hy sy voete op die Olyfberg sit. Hulle sal gered word (12:10) en as ‘n geestelik verloste volk in die land Israel en die stad Jerusalem herstel word.

Josua, wat voor die Engel van die Here staan, is ‘n uitbeelding van Israel wat voor die Here staan om opdragte te ontvang en Hom te dien. Langs hom het Satan gestaan om hom aan te kla (3:1; vgl. Op. 12:10). Satan probeer eers om mense te verlei om sonde te doen. Wanneer hulle aan die versoekings toegee en sondig, kla hy hulle voor God aan in die hoop dat God hulle as gevolg van hulle rebellie teen Hom sal oordeel en verwerp. In die Ou Testament was Satan se aandag op Israel as die uitverkore volk van God toegespits. Hy het geweet dat God vir Israel duidelik gewaarsku het dat Hy hulle in die geval van volhardende opstand teen Hom aan hulle vyande sou oorgee (vgl. Deut. 28:15-68). Satan se plan met Israel was op hulle totale uitwissing ingestel, omdat hy daardeur wou probeer voorkom dat die beloofde Messias as ‘n lid van hierdie volk gebore sou word.

Kort ná die Messias se geboorte is ‘n uiters bose plan in werking gestel om Hom dood te maak (Matt. 2:13-18). Hoewel Satan nie met hierdie sameswering geslaag het nie, het hy met sy meedoënlose pogings voortgegaan om Jesus te probeer doodmaak, om die Jode aan te hits om Jesus as Messias te verwerp en te laat teregstel, en ook om die gelowiges onder alle nasies te verlei en aan te kla. Terwyl ons die einde van die kerkbedeling nader, staan Satan weer die Joodse volk wat in hulle land herstel word, sterk teë. Indien hy daarin kan slaag om al die Jode uit te wis (‘n idee wat hy ook in Wêreldoorlog II aan Hitler voorgestel het), kan hy die Bybel verkeerd bewys omdat daar talle profesieë is wat op die toekomstige heerlikheid van die herstelde Israel onder die regering van die Messias dui.

Satan sal aan die Antichris sy krag gee, asook sy troon en groot mag (Op. 13:2), en hom daardeur bemagtig om vernietigingswerk op ‘n ongekende skaal op aarde te doen. Nadat die Antichris Israel mislei het om hom as Messias te aanvaar en ‘n verbond met hom te sluit (Dan. 9:27; Joh. 5:43), en Israel hierdie verbond verbreek wanneer die Antichris homself in die herboude tempel tot God verklaar (2 Thess. 2:4), sal hy hulle ergste vyand word. Satan, die Antichris en die valse profeet sal ook bose geeste na die konings van die aarde uitstuur om hulle aan te hits om teen Israel en hulle komende Messias te kom veg (Op. 16:13-14). Hulle sal hulle leërs in Israel ontplooi om die oorblywende Jode uit te wis, en ook in en om Jerusalem, om teen Christus en sy hemelse leër te veg (Op. 19:19).

Satan se teenkanting teen Israel (wat hier deur Josua voorgestel word) het onafgebroke deur die eeue heen voortgeduur. Alhoewel die meerderheid mense in Israel die profete én selfs die Messias verwerp het, en as gevolg daarvan in ‘n internasionale ballingskap beland het wat byna tweeduisend jaar lank geduur het, het die Here nooit die hele volk verwerp nie. Dit word in Levitikus 26:44-45 bevestig. Daar was altyd ‘n gelowige oorblyfsel onder hulle wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie (1 Kon. 19:18). God het Israel swaar gestraf oor hulle sonde, maar Hy het hulle nooit almal verwerp en vernietig nie. In die naggesig van Sagaria het God vir Josua kwytgeskeld – nie omdat Satan se aanklagte vals was nie, maar as gevolg van God se groot genade en liefde vir sy volk. Satan is bestraf omdat God vir Jerusalem verkies het, en daarom sy inwoners sou red (3:2).

Dit beteken nie dat Israel geen sonde het nie. Die Here het Satan se aanklagte verwerp omdat Hy voorsiening vir die genadige vergifnis van Israel se sondes gemaak het: “En Josua was bekleed met vuil klere terwyl hy voor die Engel staan. Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere” (3:3-4). Israel moet net hulle sondige toestand besef en tot bekering kom. As hulle na die Here terugkeer, sal Hy na hulle terugkeer, hulle van alle ongeregtigheid reinig, Jerusalem herstel en in hulle midde woon (1:3).

Koning Dawid was in ‘n soortgelyke posisie as Josua, met ‘n geestelike kleed wat deur sonde bevlek was. Hy was onder die oortuiging van sy sonde en het die volgende gebed van bekering gebid: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë... was my, dat ek witter kan wees as sneeu... Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil en ondersteun my deur ‘n gewillige gees. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer... Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig. Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op” (Ps. 51:3-20). Aan die einde het hy ‘n gebed vir die geestelike reiniging en hernuwing van Israel gedoen, wat hy Sion noem, sodat hulle ook gebroke en verslae harte oor hulle sonde mag hê. Hy het vir die herbouing van Jerusalem gebid, wat ‘n profetiese verwysing was na die tydperk ná die stad se toekomstige vernietiging, wat deur die nasionale sondes van sy leiers en hulle volgelinge veroorsaak sou word.

In die kwytskelding van Josua is sy vuil klere, wat ‘n aanduiding van sy sonde en die sonde van die volk Israel was, van hom af weggeneem. Hy is toe met feesklere beklee wat ‘n uitbeelding van die reinheid is wat op vergifnis volg. Hy het ook ‘n rein tulband op sy hoof gekry, wat op die herstel in sy priesterlike amp dui. Dit simboliseer die vergifnis en herstel van Israel as ‘n priesterlike volk, waartoe God hulle geroep het: “En julle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees” (Ex. 19:6; vgl. Jes. 61:6; 62:11-12). Petrus het aan die Messiaanse Jode geskryf: “Julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk... om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:9).

Die reiniging en toekomstige volharding van Josua sou baie belangrike gevolge hê: “As jy in my weë wandel en as jy my verordening onderhou, dan sal jy my huis bestuur sowel as my voorhowe bewaak, en Ek sal jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan” (3:7). Indien Josua sy priesterlike pligte getrou beoefen, sou hy die tempel bestuur en teen die verontreiniging daarvan deur afgodediens waak, en ook vrye toegang tot die troon van God hê, soos die engele wat voor Hom staan.

Die Here het daarna die langtermyn betekenis van die gesig bevestig, naamlik dat Josua en sy priesterlike metgeselle simbolies van toekomstige dinge was (3:8-10). Hulle priesterlike reiniging van sonde het vooruit gewys na die toekomstige reiniging van die volk Israel. Hierdie komende reiniging het betrekking op die Een wat sonde verwyder, aan wie drie Messiaanse titels gegee word: Die Kneg van die Here, die Spruit en die Steen.

As die Kneg van die Here is die Messias die Een wat gekom het om die wil van die Vader te doen, deur die verlorenes te red en diegene te oordeel wat weier om sy genade te aanvaar: “En nou sê HERE wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word... Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:5-6; vgl. 42:1; 50:10; 52:13; 53:11).

As die Spruit van Dawid (verwysende na ‘n Takkie of ‘n Loot – Jes. 11:1) is die Messias ‘n afstammeling van Dawid wat in mag en heerlikheid geopenbaar sal word om die vernedering waarin die koninklike huis van Dawid verval het, te beëindig: “In dié dag sal die Spruit van die HERE wees tot sieraad en heerlikheid, en die vrug van die land tot hoogheid en versiering vir die vrygeraaktes van Israel” (Jes. 4:2). “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon” (Jer. 23:5-6; vgl. Jer. 33:15; Sag. 6:12-13).

As die Steen sal Hy die hoeksteen van die huis van God in Israel én onder die nasies wees, omdat elke ware gelowige se lewe op die fondament (of rots) Jesus Christus gebou is (1 Kor. 3:11; vgl. Matt. 7:24). Hoewel die Messias deur Israel verwerp is, is Hy die ware hoeksteen van Israel en daarom hulle enigste hoop vir die toekoms: “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling – vir dié wat hulle daarteen stamp omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is” (1 Pet. 2:4-8). Die Messias is die hoeksteen of Verlosser vir diegene wat in Hom glo, en ‘n rots van struikeling, of Regter, vir dié wat Hom verwerp. By sy wederkoms sal Hy die ongelowige nasies oordeel (vgl. Dan. 2:34-35,44-45; Joël 3:2; Sag. 14:12-13; Op. 19:19-21). Die sewe oë op die steen stel die Messias se volkome insig en wysheid voor. In Hom is alle skatte van wysheid en kennis verborge (Kol. 2:3).

‘n Oorblyfsel in Israel sal dié Een aanvaar wat as hulle kosbare Hoeksteen sal kom, en dan op een dag as volk gered word. God sê: “Ek sal die skuld van hierdie land op een dag uitdelg” (3:9). Dit sal op die dag aan die einde van die verdrukking wees, wanneer die Messias op die Olyfberg in Jerusalem sal verskyn (12:10; 13:1; 14:4-5).

Die uitdrukking “in dié dag” (3:10) verwys na die hele millennium, wanneer toestande van vrede en voorspoed in Israel én in die hele wêreld sal heers. “Elkeen sal onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom sit, sonder dat iemand hulle verskrik” (Miga 4:4). Jesaja sê: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jes. 11:9).

Al hierdie wonderlike beloftes sal slegs beërf word deur diegene wat die Messias as hulle persoonlike Verlosser aangeneem het. Hulle is die verlostes wat na die luisterryke bruilofsfees van die Lam genooi sal word (Op. 19:7-9). Hulle sal nie ‘n vuil kleed van sonde en menslike geregtighede aanhê nie, maar as die bruid van die Lam sal hulle “bekleed wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:8). Die regverdige dade van die heiliges is niks anders nie as die vrug van die Heilige Gees in die lewens van hulle wat deur die Lam vrygekoop en in sy bloed gewas is. Salig is almal wat feesklere aanhet en na die bruilofsmaal van die Lam genooi is!

Israel se geestelike reiniging en hulle herstel as ‘n priesterlike volk, soos in Sagaria 3 beskryf, sal van hulle ‘n sieraad maak en ‘n seën vir alle nasies.

 

Sagaria 4. Israel as ‘n Lig vir die Nasies

In die vorige gesig is Israel se geestelike reiniging en hulle herstel as ‘n priesterlike volk uitgebeeld, en in hierdie een word hulle roeping beklemtoon om ‘n skynende lig in ‘n donker wêreld te wees.

Die kandelaar en die twee olyfbome (4:1-14)

Alhoewel die gesig van die kandelaar en die twee olyfbome na die herbouing van die tempel in Serubbabel se tyd verwys, sal dit sy finale vervulling eers in die toekomstige regering van die Messias hê.

Sagaria sê: “Die engel wat met my gespreek het, het teruggekom en my gewek soos ‘n man wat uit die slaap opgewek word. En hy het vir my gesê: Wat sien jy?” (4:1-2). Dit herinner ons aan die profeet Daniël, wat op ‘n soortgelyke wyse gereageer het as gevolg van die grootsheid van die openbarings wat aan hom gemaak is. Hy het gesê: “En terwyl [die engel] met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond geval; toe het hy my aangeroer en op my staanplek opgerig” (Dan. 8:18). Sagaria is ook opgerig en versterk om aan te hou waarneem wat die engel aan hom openbaar, en dit neer te skryf.

In hierdie gesig het Sagaria ‘n goue kandelaar met ‘n oliekan bo-op gesien, met sewe lampe op die kandelaar wat elk sewe toevoerpype het. Langs die oliekan was daar twee olyfbome van waar olie aan die kan voorsien is, wat verseker het dat daar ‘n konstante toevoer van olie na die sewe lampe was, sodat hulle gedurigdeur kon brand.

Die kandelaar stel Israel as ‘n lig vir die nasies voor – ‘n rol wat hulle potensieel in Sagaria se tyd kon vervul, maar in werklikheid eers tydens die vrederyk van die Messias sal vervul. Hulle sal geestelik van al hulle ongeregtighede gereinig word, en hulle getuienis van redding aan al die nasies verkondig (Jer. 33:7-9). Hulle sal ‘n seën vir die volke wees en die aarde met vrugte vir die koninkryk van die hemel vervul (Jes. 27:6; Sag. 8:23). Die eer vir dit wat bereik sal word, sal aan die Messias gegee word wat in Jerusalem sal woon: “Julle sal in dié dag sê: Dank die HERE, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is! Psalmsing tot eer van die HERE, want Hy het heerlike dinge gedoen; laat dit bekend wees op die hele aarde. Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde” (Jes. 12:4-6).

Die onafgebroke voorsiening van olie aan die kandelaar verseker dat dit voortdurend sal brand. Tydens die donker nag van God se oordele oor die wêreld gedurende die dag van die Here, dit is in die komende verdrukking, sal Hy ‘n oorblyfsel van Israel red en reinig sodat hulle ‘n skynende lig vir die wêreld kan wees: “Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jou sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang” (Jes. 60:1-3). “Julle sal priesters van die HERE genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God!” (Jes. 61:6).

Uit hierdie gesig blyk dit duidelik dat die geheim van die lampe se helder lig die oorvloedige en onafgebroke voorsiening van olie aan hulle is. Olie is ‘n bekende simbool van die Heilige Gees in die Bybel. Die Here het aan Moses gesê: “Jy moet die kinders van Israel beveel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die kandelaar bring, om gedurigdeur ‘n brandende lamp te hê” (Ex. 27:20). Dit is slegs deur die werk van die Heilige Gees dat die lig van God se koninkryk op aarde kan skyn. Die opdrag om ‘n kandelaar in die tempel te hê, met sewe lampe wat dag en nag moes brand, is simbolies van die voortdurende teenwoordigheid van die Here onder sy volk deur middel van die Heilige Gees.

Die olie is ook gebruik om die priesters te salf. Daardeur word die beginsel beklemtoon dat tensy die Here ‘n persoon met sy Heilige Gees salf en toerus, daardie persoon nie as ‘n priester kan optree om die Here te dien en namens Hom met ander mense te praat nie. Moses het “van die salfolie op die hoof van Aäron gegiet en hom gesalf om hom te heilig” (Lev. 8:12). Dawid het die Here ook geloof omdat Hy sy hoof met olie gesalf het. Salomo het gesê: “Laat jou klere altyd wit wees, en laat olie op jou hoof nie ontbreek nie” (Pred. 9:8). Dit was ‘n aanduiding van ‘n rein, geheiligde lewe. In die Nuwe Testament is olie ook ‘n simbool van die Heilige Gees. In Mattheus 25 het die wyse maagde olie in die kanne saam met hulle geneem om hulle lampe aan die brand te hou. Dit is ‘n manier om die Geesvervulde lewe uit te beeld. Die dwase maagde het nie genoeg olie gehad nie, daarom word hulle as dwaas, en dus vleeslik, beskryf. Hulle was nie met die Heilige Gees vervul nie.

Deur die engel se verduideliking van die onafgebroke voorsiening van olie aan die lampe, het hy aan Sagaria die belangrike rol van die Heilige Gees beklemtoon om mense in staat te stel om die Here se werk op aarde te kan doen – in hierdie geval die herbouing van die tempel deur Serubbabel: “Dit is die woord van die HERE aan Serubbabel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My Gees, sê die HERE van die leërskare. Wie is jy, groot berg? Voor Serubbabel sal jy tot ‘n gelykte word” (4:6-7). Die engel het hierdeur te kenne gegee dat Serubbabel nie alleen die werk aan die tempel as gevolg van die oorvloedige voorsiening van die Heilige Gees sou voltooi nie (4:9), maar dat elke struikelblok vir die bouwerk, al lyk dit ook so groot soos ‘n berg, uit die weg geruim sou word. Die boodskap is ook duidelik oorgedra dat menslike krag en militêre geweld nie voldoende sou wees om die werk te voltooi nie – net werkers wat onder Serubbabel se leierskap met die krag van die Heilige Gees toegerus is, sou dit kon doen.

“Die hande van Serubbabel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi... Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe – die oë van die HERE wat die ganse aarde deurloop – met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbabel?” (4:9-10). Hy het die werk van die herbouing op die ou fondamente begin en hy sou dit ook voltooi deur die sluitsteen te lê (4:7). Die skietlood in sy hande simboliseer sy persoonlike toesig oor die bouprojek, en ook die sorg wat geneem moes word om volgens ‘n plan te bou en te verseker dat die mure se vertikale lyn reg is.

Diegene wat die dag van klein dinge verag het, is die mense wat nie geglo het dat die klein begin wat met die konstruksiewerk gemaak is, na enige betekenisvolle resultate sou lei nie. Die werk van die Here het altyd ‘n klein begin omdat dit nie deur aansienlike mannekrag, groot kapitaalbronne en ander hulpdienste gerugsteun word nie. Die werk word op só ‘n manier voltooi dat mense die Here se seën op die onderneming kan sien, en ook sy genadige voorsiening in al hulle behoeftes. Dit is waarom Serubbabel die sluitsteen van die gebou te voorskyn gebring het onder uitroepe van “Genade, genade oor hom!” (4:7). Die werk is net deur die genade van die Here voltooi.

Die sewe oë simboliseer God se wêreldwye opmerksaamheid; niks is vir sy oë bedek nie. In sy alwetendheid sien en weet God wat elkeen doen: “Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies” (Spr. 15:3). “Daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Heb. 4:13). As gevolg van sy volmaakte kennis sal Hy sy ware diensknegte wat op Hom vertrou, deur sy Heilige Gees lei en versterk: “Want die HERE – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kron. 16:9; vgl. Ps. 33:18).

Aan die einde van die interpretasie word inligting oor die twee olyfbome verskaf wat die olie aan die kandelaar voorsien. Die twee takke met olywe aan het olie in die goue pype laat afloop wat na die oliekan gevloei het, en daarvandaan deur die 49 pypies na die sewe lampe toe. Die engel wat die gesig verklaar het, het aan Sagaria gesê dat die twee olyfbome “die twee gesalfdes is wat by die HERE van die ganse aarde staan” (4:14). Die takke verwys na die gesalfde priester en koning, in hierdie geval Josua en Serubbabel, wat tipes van Israel se Priester-Koning, die Messias, was.

Die finale vervulling van hierdie gesig sal eers in die millennium plaasvind, wanneer die Here Jesus van die troon van Dawid af uit Jerusalem sal regeer (Hand. 15:16-17; Op. 19:16). Die Here sê: “In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid ‘n Spruit van geregtigheid laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land” (Jer. 33:15).

Hierdie gesalfde Koning is die bewerker van ewige saligheid vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, en word ‘n Hoëpriester volgens die orde van Melgisédek genoem (Heb. 5:9-10). Die oorvloedige bron van die Heilige Gees se olie vloei van sy genadetroon af. As sterflike mense kan ons nie lewens lei wat vir God welbehaaglik is sonder dat ons deur die Heilige Gees gewederbaar is, en ook voortdurend deur Hom vervul en vir ons bediening gesalf word nie. Dit kry ons alles deur geloof in Christus: “Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar Een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:15-16).

In die regering van die Messias sal Hy nie net, deur sy Heilige Gees, aan Israel genade skenk nie, maar ook aan gelowige lede van die nasies. Israel sal geestelik deurlopend in verbinding met die goddelike bron van genade wees wat deur die Messias aan hulle gebied word, en dan ten volle hulle roeping vervul om ‘n lig vir die nasies te wees: “Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak (Jes. 27:6).

In die komende verdrukking sal daar in Israel ‘n voorbereidende bediening vir die Messiaanse era wees, wanneer Christus as die Priester-Koning finaal die simboliek van die twee olyfbome sal vervul. Gedurende die donker dae ná die wegraping van die ware kerk sal twee spesiale getuies deur God opgewek word om Israel op die spoedige koms van die Messias, as die beloofde Priester-Koning, voor te berei. Hulle bediening sal ook ‘n gedeeltelike vervulling van die twee olyfbome wees, deurdat hulle aan Israel die weg na die enigste Bron van genade en goddelike krag sal wys – dit is die Messias self wat deur hulle vaders verwerp is. In Openbaring word die volgende oor hierdie twee getuies gesê: “Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, 1260 dae lank sal profeteer. Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan” (Op. 11:3-4).

Verskeie Bybelstudente is van mening dat die twee getuies Elia en Moses in fisiese, sterflike liggame sal wees wat na die land en volk van Israel sal terugkeer. Dit is egter nie ‘n uitgemaakte saak dat Elia en Moses persoonlik na die aarde toe teruggestuur sal word om deur die Antichris en sy bose magte doodgemaak te word nie, wat sal beteken dat Moses vir ‘n tweede keer sal sterf. Dit is baie meer moontlik dat twee uitstaande en begaafde Messiaanse Jode in die gees en krag van Elia en Moses opgewek sal word. Die profesie oor die terugkeer van Elia voor die groot en vreeslike dag van die Here (Mal. 4:5-6), is gedeeltelik in die optrede van Johannes die Doper vervul (Matt. 17:10-13). Johannes het egter net “in die gees en krag van Elia” opgetree en sodoende die tipiese rol van Elia vervul om ‘n wegbereider vir die Messias te wees (Luk. 1:17). Hy het ontken dat hy Elia self was (Joh. 1:21).

Die geestelike krag van Moses en Elia het van God af gekom deur die Heilige Gees, en bevestig dus die sleutelteks in hierdie hoofstuk: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here” (4:6). Hierdie groot manne van God het geen krag of invloed in hulleself gehad nie. Moses het selfs probeer om as gevolg van ‘n persoonlike swakheid sy roeping te ontduik. Hy het gesê: “Ag, Here, ek is nie ‘n man van woorde nie – van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. En die Here antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak? ... Is dit nie Ek, die Here nie? Gaan dan nou heen en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê” (Ex. 4:10-12).

Elia was ook op die punt van wanhoop toe hy vir die Here gesê het: “Die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem” (1 Kon. 19:14). Hy is egter ook bemoedig om in die krag van die Heilige Gees met sy bediening voort te gaan. Hy is só kragtig deur die Here gebruik dat Elisa, nadat Elia in die hemel opgeneem is, uitgeroep het: “My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!” (2 Kon. 2:12). As gevolg van die kragtige dade wat die Here deur Elia gedoen het, was hy vir Israel meer as hulle weermag werd gewees. Hy was Israel se onstuitbare strydwa teen die vyand. Met sy skielike vertrek is hulle weerloos gelaat.

Daar is soveel predikers en geestelike leiers vandag wat op menslike vermoëns, invloed en geld vertrou om die werk van die Here te doen. Sielkundige motiveringstegnieke word gebruik om hulle programme te dryf. Sonder die werking van God se Gees is al hierdie dinge egter tevergeefs. Ons het Geesvervulde en Geesbeheerde leiers nodig, wat nederige en onwaardige diensknegte van God is sodat sy boodskap duidelik verkondig en sy reddende genade deur baie mense ervaar kan word. “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here van die leërskare.”

 

Sagaria 5. God Reinig sy Volk en Hulle Land

Die eerste vyf naggesigte hou beloftes van seën vir Israel in – die oorwinning oor hulle vyande, die uitbreiding van Jerusalem, die vestiging daarvan as die stad van die Messias, die geestelike herlewing van Israel en die vervulling van hulle goddelike roeping om die leidende nasie in die wêreld te wees. Voordat hierdie tyd van seën egter kan aanbreek, moet God sy heiligheid beskerm deur sonde in Israel uit te roei, hulle te heilig en waardig te maak om die belofte van sy koms en goddelike teenwoordigheid in Jerusalem te kan beërf. In die laaste drie gesigte gaan seën en oordele hand aan hand, soos wat dikwels die geval in Bybelse profesieë is. Die Messias se geseënde koninkryk van vrede en geregtigheid word aangekondig, maar dit kan slegs ‘n werklikheid word nadat die oorblyfsel in Israel deeglik gereinig is.

Die vlieënde boekrol (5:1-4)

Sagaria sê: “Ek sien ‘n vlieënde boekrol, sy lengte is twintig el en sy breedte tien el. Daarop sê [die engel] vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land; want ooreenkomstig daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim word, en ooreenkomstig daarmee sal al die meinediges hiervandaan weggeruim word. En laat dit uitgaan, spreek die HERE van die leërskare, en dit sal kom in die huis van die dief en in die huis van hom wat vals sweer by my Naam; en dit sal binne-in sy huis vernag en dit verteer” (5:3-4).

Die boekrol was oopgerol en in die lug sodat die oordele wat aan beide kante daarvan opgeteken was, vir almal sigbaar sou wees. Dit was die presiese grootte van die tabernakel (vgl. Ex. 26:15-25), wat ‘n aanduiding is van die feit dat die oordele van God op die boekrol in harmonie met sy heilige teenwoordigheid in Israel is. In Israel se vroeëre teokratiese regering het God deur middel van die diens in die tabernakel oor sy volk regeer, en sal dus ook in die toekoms sy ongehoorsame volk straf en reinig. Die boekrol het deur die lug gevlieg om aan te toon hoe vinnig en skielik die oordele van God in die huise van die diewe en lasteraars sal toeslaan.

Die feit dat die boekrol aan beide kante beskryf was, herinner aan die twee tafels van die wet (Ex. 32:15). Die vloek van die boekrol is op die oortreders van die middelste gebod op elk van die twee tafels gerig – die agtste gebod teen diefstal (Ex. 20:15) en die derde gebod teen diegene wat die Here se Naam ydelik gebruik (Ex. 20:7). Hierdie twee groepe oortreders is dus verteenwoordigend van almal wat die wet van die Here verbreek. Die oordeel sal onder die volk van God in Israel begin (Dan. 9:11). Die Here sê: “Die land is vol owerspelers; want die land treur weens die vloek... Profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die HERE” (Jer. 23:10-11).

Die oordele en vloek van die Here oor sonde sal nie net in Israel uitgaan nie, maar oor die hele wêreld, om sondaars en boosdoeners te straf. Jesaja sê: “Kyk, die HERE maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners... Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insettinge geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor” (Jes. 24:1,5-6).

Uiters moeilike dae van oordeel, toetsing en reiniging lê in die besonder vir Israel voor: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). Sagaria sê dat as gevolg van die uiterste boosheid van Israel, slegs ‘n derde van hulle die komende oordele van God sal oorleef, en dat die oorblyfsel dan gelouter en gered sal word (13:8-9). Hulle sal die herstelde koninkryk van Israel beërf en die Messias sal uit Jerusalem regeer: “Die HERE van die leërskare sal regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en voor sy oudstes sal daar heerlikheid wees” (Jes. 24:23). Johannes sê: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15).

Israel en die nasies is huidiglik in die dispensasie van genade, waartydens die reddende genade van die Messias aan alle mense verkondig word – ook aan Israel: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel” (Hand. 17:30-31). Aan die einde van die genade-bedeling sal die ongelowiges onder alle nasies geoordeel word. Die Here het spesifiek vir Israel hierteen gewaarsku: “Dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan” (Dan. 12:1). Die Messias het in sy profetiese rede gesê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22).

Die vrou in die efa (5:5-11)

Die vorige gesig is op die verwydering van sondaars uit die gemeenskap ingestel, maar hierdie gesig verduidelik die verwydering van ‘n bose godsdiensstelsel na sy plek van oorsprong. Sagaria het ‘n vrou wat “goddeloosheid” genoem word, in ‘n efa sien sit met ‘n looddeksel bo-op. ‘n Efa was die grootste droë houer in die Joodse huishoudings, en die volume daarvan was tussen 25 en 50 liter. Aangesien dit veels te klein vir ‘n vrou is om daarin te sit, is die efa in die naggesig waarskynlik vergroot, soos in die geval van die boekrol in die vorige gesig.

Die vrou simboliseer die korporatiewe boosheid, of ongeregtigheid, in die land Israel én in die wêreld. Sy is die moederorganisasie, of ekumeniese liggaam, van al die valse godsdienste in die wêreld, wat hulle gemeenskaplike oorsprong in Babilon in die land Sinear (in die huidige Irak) het. Die Messiaanse Joodse profeet, Johannes, het hierdie vrou in ‘n visioen beskryf wat hy oor die komende dag van die Here gehad het. ‘n Engel het aan hom gesê:

“Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus... En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (Op. 17:1-6,18).

Hierdie vrou, verborge Babilon, sal in die eindtyd weer ‘n duidelike identiteit aanneem. Sy sal as ‘n multigodsdienstige organisasie na vore tree wat ‘n wye verskeidenheid antichristelike leerstellings en booshede sal bevorder, omdat sy absoluut vyandig teenoor die ware, Drie-enige God van die Bybel sal wees, naamlik die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Wanneer sy al die valse gelowe verteenwoordig, sal die volle maat van Boosheid in haar gesetel wees en sal haar beheerstruktuur na die plek van haar oorsprong in Babilon verskuif word.

Sagaria sê: “Toe slaan ek my oë op en kyk – daar kom twee vroue te voorskyn met die wind in hulle vlerke; en hulle het vlerke gehad soos die vlerke van ‘n groot sprinkaanvoël, en hulle het die efa weggevoer tussen die aarde en die hemel. Daarop sê ek aan die engel wat met my gespreek het: Waarheen bring hulle die efa? En hy antwoord my: Om vir haar ‘n huis te bou in die land Sinear; en is dit klaar, dan word sy op haar plek neergesit” (5:9-11).

Die twee vroue met vlerke soos dié van ‘n sprinkaanvoël is duidelik ‘n deel van hierdie bose godsdiens-organisasie omdat die sprinkaanvoël waarmee hulle vergelyk word, ‘n onrein voël is. Hulle stel demoniese magte voor, en die wind in hulle vlerke dui aan dat hulle baie haastig sal wees om verborge Babilon terug te neem na die plek waar sy tuishoort – dit is Sinear, wat ook as Babilonië bekend staan. Dit is die land waarheen Israel in die Ou Testament as ballinge weggevoer is, en is ook die gebied van antieke én eindtydse afgodediens en rebellie teen God (Gen. 11:2; Op. 17:3-5). Walvoord & Zuck (The Bible Knowledge Commentary) sê: “Hierdie profesie ondersteun die verwagting dat die stad Babilon langs die Eufraatrivier herbou sal word.”

Die Bybel maak dit duidelik dat Jerusalem en Babilon albei ‘n belangrike rol in die eindtyd sal speel. Jerusalem sal ten volle as die politieke en godsdienstige hoofsentrum van die geredde volk van Israel herstel word. Die Messias, as die Priester-Koning, sal die wêreld van die troon van Dawid af regeer. Sagaria sê dat die inwoners van Jerusalem van al hulle sonde en ongeregtigheid gereinig sal word, en dat alle afgode uit die land verwyder sal word (13:1-2). Die onrein geeste wat in die groot aantal valse gelowe se voorwerpe van aanbidding gesetel is, sal ook die land verlaat. Hulle sal haastig na Babilon terugkeer, waar hulle ten nouste met die Antichris sal saamwerk in sy pogings om die hele wêreld te oorheers, Israel te vernietig en alle mense wat in die Messias, Jesus, glo, te mislei of dood te maak.

In die komende verdrukking, wat ook as die tyd van benoudheid vir Jakob beskryf word (Jer. 30:7), sal die Babiloniese alliansie van valse godsdienste (die vrou wat Goddeloosheid genoem word) die bruid van die Antichris wees en groot voorregte in sy ryk geniet. Hierdie huwelik sal egter van korte duur wees omdat die Antichris en sy mede-regeerders die vrou sal laat teregstel wanneer haar rol uitgedien is: “En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Op. 17:16).

Walvoord & Zuck (The Bible Knowledge Commentary) sê die volgende oor dié goddelose vrou se skielike einde: “Openbaring 17 eindig met die dramatiese vernietiging van hierdie vrou. Dit sal waarskynlik in die middel van die sewe jaar lange verdrukking gebeur wanneer die Antichris die rol van wêrelddiktator sal aanneem. Wanneer hierdie leier in die Midde-Ooste alleenheerskappy oor die wêreld verkry, sal hy ook die plek van God probeer inneem en eis dat alle mense hom as God aanbid (Dan. 11:36-38; 2 Thess. 2:4; Op. 13:8). Die valse wêreldgodsdiens wat die eerste helfte van die verdrukking gekenmerk het, sal dus tot ‘n skielike einde kom. Dit sal tot die laaste vorm van wêreldgodsdiens lei, wat die verpligte aanbidding van die Antichris as God sal behels.” Paulus het ook daarop gewys dat hy in die tempel van God sal ingaan en voorgee dat hy God is (2 Thess. 2:4). Diegene wat sal weier om hom as God te aanbid, sal tereggestel word (Op. 13:15; 20:4).

‘n Oorblyfsel van Israel sal ook onder diegene wees wat sal weier om die valse messias te aanbid wanneer hy die tempel ontheilig, homself tot God verklaar en ‘n gruwelike afgodsbeeld van homself in die tempel laat oprig. Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom... dan moet die wat in Judea is na die berge vlug... want dan sal daar groot verdrukking wees” (Matt. 24:15-21).

Aan die einde van die groot verdrukking, wanneer die ware Messias na Jerusalem terugkom, sal die valse messias en sy magte wêreldwyd verdelg word. Die oordele van die Here sal van Jerusalem af oor die hele aarde uitgaan. Babilon, die vesting van die valse messias en sy valse wêreldgodsdiens, sal totaal in die oordele van die Here verwoes word. Die vrou wat na die land Sinear weggevoer gaan word, sal deur die beskikking van die Here na haar plek van oordeel geneem word. Wanneer die Messias uit Jerusalem regeer, sal alle spore van haar reeds verwyder wees.

 

Sagaria 6. Oordeel oor die Nasies

In hierdie hoofstuk word die laaste van Sagaria se naggesigte bespreek, sowel as ‘n simboliese daad waarmee die gesigte afgesluit word.

Die vier strydwaens (6:1-8)

Sagaria sê: “En ek het weer my oë opgeslaan en gekyk – daar was vier strydwaens wat tussen die twee berge uit te voorskyn kom, en die berge was berge van koper. Voor die eerste wa was bruin [rooibruin of rooi] perde, en voor die tweede wa swart perde, en voor die derde wa wit perde, en voor die vierde wa bont [gespikkelde] perde, sterkes... En die engel het vir my gesê: Dit is die vier winde [of geeste] van die hemel nadat hulle hul gestel het by die Here van die ganse aarde. Dié met die swart perde trek uit na die land van die noorde, en die wittes trek uit agter hulle aan; en die bontes trek uit na die land van die suide... En hulle het die aarde deurkruis” (6:1-7).

Hierdie gesig herinner aan die eerste een, met perde wat van die Here af na die hele aarde uitgegaan het. Die perde in dié gesig is egter voor strydwaens ingespan om God se oordele oor die nasies te gaan voltrek. Geen melding word van enige ruiters of persone in die strydwaens gemaak nie. Die vier strydwaens met perde van verskillende kleure dui op die universele aard van God se oordele wat in alle rigtings oor die aarde sal uitgaan.

Die perde se kleure is betekenisvol, omdat rooi oorlog en bloedvergieting voorstel, swart dui op hongersnood en dood, wit is ‘n aanduiding van oorwinning, en die gespikkelde perde stel pessiektes en plae voor. Hierdie perde het ‘n soortgelyke sending as die vier apokaliptiese perde wat in Openbaring 6 beskryf word. Die wit perd verwys na die Antichris as oorwinnaar en valse vredevors, die rooi perd dui op bloedvergieting en oorlog, die swart perd is ‘n aanduiding van hongersnood en pessiektes, terwyl die vaal perd ‘n oes vir die dood en doderyk insamel.

Die engel het aan Sagaria die betekenis van die perde en die strydwaens verduidelik. Die vier winde dui op die wêreldwye aard van die oordele wat van God af uitgaan; of, as dit vier geeste is wat van God af uitgaan, soos in die King James vertaling aangedui, kan dit op die Heilige Gees van die Here dui wat sy strafgerigte sal voltrek. “Want kyk, die HERE sal kom in die vuur, en sy waens soos ‘n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging. Want met vuur en met sy swaard sal die HERE strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die HERE verslaan is, sal baie wees” (Jes. 66:15-16).

Die goddelike titel “Die Here van die ganse aarde” is ‘n benaming wat in die toekomstige koninkryksbedeling van die millennium op die wêreldregering van die Messias dui. Die land van die noorde verwys na Babilon omdat hulle invalle in Israel altyd uit die noorde gekom het, terwyl die land van suide na Egipte verwys. Die noorde en suide was die enigste rigtings wat uit Israel se oogpunt vir vyandige aanvalle ter sake was. Die ander rigtings, nl. oos en wes, word egter geïmpliseer omdat die strydwaens die hele aarde sal deurkruis.

Die perde en strydwaens het tussen twee berge van koper op die toneel verskyn en daarvandaan uitgegaan. Dit is baie betekenisvol aangesien die smelt van kopererts ‘n simbool van goddelike oordeel oor sonde is. Die koperslang wat Moses in die woestyn gemaak het, was ‘n teken van die Here se oordeel oor die sonde van die volk. Diegene wat na die slang gekyk het, is vergewe en genees (Num. 21:9). Die koperslang het profeties op die offer van die Lam van God aan die kruis gedui, omdat Hy God se toorn oor alle sondaars namens hulle gedra het (Joh. 3:14-15; Jes. 53:4-5). Hy het die lydensweg ter wille van die hele mensdom se sondes bewandel, daarom was “sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond” (Op. 1:15).

Die twee koperberge in Sagaria 6 verwys waarskynlik na die berg Sion en die Olyfberg. Die vallei tussen die twee berge staan as Kidron en die dal van Jósafat bekend, en is ‘n terrein wat ten nouste met goddelike oordele in verband staan (Joël 3:2). Sagaria sê dat die Messias met sy koms sy voete op die Olyfberg sal sit (14:4). Openbaring 19:20 sê dat die valse messias, of Antichris, en die valse profeet op dié dag gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi sal word. Die plek waar hierdie oordeel sal plaasvind, is die vallei tussen die berg Sion en die Olyfberg, wat ook die dal van Jósafat genoem word. Dit beteken “die Here oordeel.”

Van hierdie plek af sal die strydwaens van goddelike oordeel in alle rigtings oor die hele aarde uitgaan met die opdrag om die goddeloses te straf. Joël sê: “Die HERE sal brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe” (Joël 3:16). Jesaja sê dat almal wat hoog en verhewe is, op dié dag verneder sal word, omdat die Here alleen verhewe sal wees (Jes. 2:12,17). Die dag van die Here kom as ‘n verwoesting van die Almagtige. Dit sal ‘n dag van grimmigheid en toorngloed wees. Die Here sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid. Sondaars sal verdelg word en daar sal min mense oorbly. Babilon sal wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. Dit sal nooit weer bewoon word nie” (Jes. 13:6,9-12,19-20; vgl. Jer. 51:61-64).

Aan die einde van hierdie gesig het die Here met Sagaria gepraat en gesê: “Kyk, die wat uittrek na die land van die noorde, hulle bring my Gees tot rus in die land van die noorde” (6:8). Dit is ‘n bekende feit dat Babilon, wat ook Sinear of die land van die noorde genoem word, in die Bybel as die oorsprong van alle vorms van georganiseerde rebellie teen God in die wêreld beskou word. Hierdie opstandigheid en sonde het as ‘n wye reeks gelowe en instellings gemanifesteer wat uit Satan se koninkryk na vore gekom het. Dit sluit alle valse gelowe in wat op afgodediens, die verering van geeste, toorkuns, astrologie, selfvergoddeliking en okkultiese praktyke soos transendentale meditasie, heldersiendheid, astrale projeksie en fortuinvertellery gebaseer is. Hierdie gelowe en gebruike het van Babilon af oor die hele wêreld versprei.

Babilon is ook die geboorteplek van politieke rebellie teen God se orde van onafhanklike en selfbeskikkende volke met eie woongebiede (Hand. 17:26). Die eerste Babiloniese wêreldryk het die voorbeeld vir die daaropvolgende wêreldryke gestel wat almal die mens verhef en selfs vergoddelik het, ander volke onderwerp en onderdruk het deur gedwonge inlywing by die ontluikende wêreldryk, en ook ‘n verbond met valse godsdienste gesluit het. Die mag wat deur hierdie wêreldryke verkry is, is altyd teen die koninkryk ban God gebruik.

Die laaste van hierdie ryke sal die wêreldryk van die Antichris wees, wat die aartsvyand van die ware Christus en sy volk Israel, asook gelowiges onder alle nasies, sal wees. Die Antichris sal voorgee dat hy ‘n God-mens is (2 Thess. 2:4; Dan. 11:36), en die verstrooide Babiloniese godsdiens in ‘n ekumeniese liggaam byeenbring wat in die Bybel as verborge Babilon, die moeder van die hoere, beskryf word (Op. 17:3-5). Hy sal ook alle politieke mag in sy wêreldstaat sentraliseer, die stad Babilon herbou en die wêreld daarvandaan regeer (Op. 18).

In Sagaria 5:5-11 word die valse Babiloniese godsdiensstelsel ter voorbereiding van haar finale vernietiging na Babilon verskuif. In Sagaria 6:1-8 word al die nasies geoordeel omdat hulle deur die Babiloniese gees van boosheid en rebellie teen God oorheers is. Wanneer hierdie taak afgehandel is, sal God se Gees van geregtigheid en wraakgerig in die land van die noorde tot rus kom, waar al die boosheid begin het. Die toneel sal dan vir die Koning van die hele aarde gereed wees om die regering op sy skouer te neem en uit Jerusalem te regeer.

Die kroning van Josua (6:9-15)

Die agt naggesigte is met ‘n simboliese daad afgesluit, waarin Sagaria die opdrag ontvang het om Josua, die hoëpriester, as koning te kroon: “Neem... silwer en goud, en maak ‘n kroon en sit dit op die hoof van Josua... die hoëpriester, en sê vir hom dit: so spreek die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom ‘n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die HERE bou... Hy sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon; ook sal Hy ‘n priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan” (6:11-13).

Josua het die Spruit, of Messias, verteenwoordig, wat die toekomstige tempel sal bou en terselfdertyd ‘n Priester en ‘n Koning sal wees. Die simboliese daad van Josua se kroning het slegs ‘n eindtydse vervulling, aangesien dit in Ou Testamentiese tye onmoontlik vir ‘n hoëpriester was om as koning gekroon te word. Die konings het slegs aan die koninklike linie van Dawid in die stam van Juda behoort, terwyl die priesters slegs uit die stam van Levi aangewys is. ‘n Koning kon dus nie as hoëpriester aangestel word nie, en ‘n hoëpriester ook nie as koning nie. Wanneer die Messias kom, sal sy priesterskap egter volgens die orde van Melgisédek wees, wat die priester-koning van Salem was – die plek wat later Jerusalem geword het. Hy was ‘n tipe van die Messias: “Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste... [hy was] sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur” (Heb. 7:1-3; lees ook Heb. 7:11-28 oor die Messias se ewige hoëpriesterskap).

Die Spruit van die huis van Dawid sal ‘n Koning wees wat reg en geregtigheid sal doen in die land (Jer. 23:5) en ook die tempel van die Here sal bou (Sag. 6:8). Hy sal ‘n afstammeling van Dawid in die koninklike stam van Juda wees, en ‘n ewige hoëpriesterskap volgens die orde van Melgisédek beoefen. Behalwe die feit dat Hy ‘n Priester-Koning is, is Hy ook die volmaakte God-mens. As die Seun van die mens is Hy in ‘n Joodse gesin gebore, maar as gevolg van die bonatuurlike bevrugting van die maagd Maria deur die Heilige Gees, is Hy ook die Seun van God. Die engel het aan Maria gesê: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Luk. 1:35). Dit is ook aangekondig dat “die Here God aan Hom die troon van sy vader Dawid sal gee, en Hy sal Koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid” (Luk. 1:32-33).

As die Seun van God is Jesus Christus egter die ewige EK IS wat van alle ewigheid af bestaan (Joh. 8:24,58). Hy is die Here van die hele aarde, wat tereg deur Sagaria as “die HERE my God” beskryf word (14:5). Baie jare later is Thomas se twyfel verdryf toe Hy voor die verrese Verlosser van die wêreld neergebuig en Hom eerbiedig as “my Here en my God” aangespreek het (Joh. 20:28). Hy is “die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20).

Die Here Jesus sal weer kom om sy vyande te oordeel en van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem te regeer. Hierdie “Seun” wat in die huis van Dawid gebore is, is bestem om vir ewig as Koning te heers: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem... Sterke God... Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid” (Jes. 9:5-6).

‘n Baie betekenisvolle aspek van Sagaria se profesie is dat Josua reeds ‘n priester was toe hy as koning gekroon is. Wat die Here betref, is Hy reeds ‘n hoëpriester wat sy genade aan ons bied en by die Vader vir ons intree (Heb. 4:14-16; 7:25). In die nabye toekoms sal Hy ook die koninklike kroon ontvang wanneer Hy as Koning van die konings sal kom (Op. 19:16).

Die profesie in Sagaria 6:12-13 is van die allergrootste belang: “So spreek die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom ‘n Man wie se naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die HERE bou. Ja, Hy sal die tempel van die HERE bou, en Hy sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon; ook sal Hy ‘n Priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.”

Prof. C. Feinberg, ‘n uitstaande Messiaanse Jood en kenner van die Ou Testament, beklemtoon die betekenis van hierdie twee verse só: “Dit is een van die mees merkwaardige en kosbaarste Messiaanse profesieë, en daar is nie ‘n duideliker profetiese uitspraak in die hele Ou Testament oor die Persoon van die beloofde Verlosser, die ampte wat Hy sal beklee en die taak wat Hy sal verrig nie.”

Spoedig sal die magtige Priester-Koning van Israel én die hele wêreld kom om sy vyande te oordeel, die oorblyfsel in Israel te red en die wêreld uit Jerusalem te regeer. Sy heiliges sal sy heerlikheid met Hom deel en saam met Hom as konings regeer.

 

Sagaria 7-8. Teregwysing, Bekering, Vasdae en Feeste

Sagaria het sy naggesigte in 520 v.C. ontvang. Twee jaar later, in 518 v.C. (in die vierde regeringsjaar van Darius), het hy vier boodskappe van die Here af ontvang. Hierdie boodskappe is gegee in antwoord op ‘n vraag wat oor die onderhouding van sekere vasdae aan Sagaria gestel is. ‘n Joodse afvaardiging uit Bet-el het na Jerusalem gekom om aan die profeet te vra of die volk moes aanhou om ter herinnering aan Jerusalem se vernietiging te vas (7:2-3). Die vraag van die afvaardiging het die begeerte geïmpliseer dat hulle met die selfopgelegde godsdienstige vasdag in die vyfde maand wou ophou, waardeur Nebukadnésar se vernietiging van die stad en die tempel herdenk is (2 Konings 25:8-10).

Die Here het in reaksie op hierdie vraag die volgende vier boodskappe aan Israel gegee, maar die finale antwoord is eers in die vierde boodskap verstrek (8:18-19):

1. ‘n Boodskap van teregwysing (7:4-7)

Die eerste boodskap het die volk daaraan herinner dat God hulle vaders deur die vroeëre profete gewaarsku het dat Hy ware aanbidding en verering vereis – nie slegs die uiterlike nakoming van instellings sonder bekering en die belydenis van hul sonde nie (vgl. Jes. 1:11-20). “As julle, nou 70 jaar lank, in die vyfde en sewende maand gevas en getreur het, het julle toe werklik ter wille van My gevas? En as julle eet en as julle drink, is dit dan nie júlle wat eet en júlle wat drink nie?” (7:5-6). God se teregwysing was teen ‘n leë vormgodsdiens wat geen geestelike inhoud het nie, want of hulle gevas of feesgevier het, het hulle dit nie vir die Here gedoen nie, maar vir hulleself. Hulle het hul tradisionele Joodse godsdiens in stand gehou sonder om waarlik die Here te dien en hulle van hul sondes te bekeer.

Hoewel God tydens krisisse nasionale dae van vas en verootmoediging bepaal het (Joël 1:14), moes hierdie dae nie op ‘n ongeërgde manier, sonder bekering, gevier word nie: “Is dit nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid... Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uitgaan... Dan sal jy roep, en die HERE sal jou antwoord” (Jes. 58:6-9).

2. ‘n Boodskap van bekering (7:8-14)

‘n Duidelike bekeringsboodskap is weer eens aan Israel gerig, omdat dit die enigste manier was waarop die Here se oordele ontvlug kon word: “So het die HERE van die leërskare gespreek en gesê: Spreek ‘n eerlike vonnis uit en bewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander. En moet nie die weduwee en die wees, die vreemdeling en die arme verdruk nie en kwaad in julle hart teenoor mekaar bedink nie. Maar hulle het geweier om te luister en wederstrewig die skouer afgewend en hulle ore toegestop om nie te hoor nie. Ook het hulle hul hart soos ‘n diamant gemaak, om nie die wet te verneem nie en die woorde wat die HERE van die leërskare deur sy Gees, deur die diens van die vroeëre profete, gestuur het nie. So het daar dan van die HERE van die leërskare ‘n groot toorn gekom” (7:9-12).

Die Here het na die volgende bewyse van ‘n goddelike lewe van geregtigheid gesoek, in plaas van ‘n selfgesentreerde lewe wat deur apatie, onbekeerlikheid, leuens en bose gedagtes gekenmerk word:

  • Die beoefening van ware geregtigheid. Dawid het reg en geregtigheid aan al sy mense laat geskied (1 Kron. 18:14). Om anders te handel, is sonde: “Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die HERE ‘n gruwel” (Spr. 17:15).
  • Die betoning van barmhartigheid en ontferming aan jou medemense. Hierdie is goddelike eienskappe (Ex. 34:6; Deut. 30:3) wat aan behoeftiges en armes betoon moet word deur diegene wat van die Here genade en ontferming ontvang het.
  • Die versorging van weduwees, wese, vreemdelinge en armes. “Want die HERE julle God... is ‘n gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie; wat reg verskaf aan die wees en die weduwee, en die vreemdeling liefhet, sodat Hy hom brood en klere gee. Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipteland” (Deut. 10:17-19). Israel, asook alle ander nasies, moet nie swakkes en armes onderdruk nie, en ook nie op vreemdelinge neersien wat by hulle kom hulp soek nie.

Israel het hulle harte teen God verhard, geweier om hulle te bekeer, en openlik al die sondes gedoen waarteen hulle gewaarsku is. Hulle het die waarskuwings verwerp wat God deur sy Heilige Gees by monde van verskeie profete aan hulle gerig het (7:12). Hierdeur het hulle die wraak van God oor hulleself gebring. Die gevolg hiervan was dat God nie hulle gebede verhoor het toe hulle in die nood was nie (7:13). Hulle is deur hul vyande gevange geneem en onder die nasies verstrooi. Die Here sê: “Ek sal hulle wegstorm [verstrooi] onder al die nasies wat hulle nie geken het nie” (7:14). Die Babiloniese ballingskap van die Jode was net ‘n gedeeltelike vervulling van hierdie profesie, omdat dit ten diepste op die volk se latere internasionale verstrooiing dui. Dit het eers in Nuwe Testamentiese tye gebeur, nadat hulle Jesus as Messias verwerp het.

Die Here Jesus het Israel teen hulle toekomstige vervolging gewaarsku, en die feit beklemtoon dat hulle geoordeel sou word omdat hulle hul vaders se sondes goedgepraat en voortgesit het: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes... Julle gee teen julleself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het. Maak die maat van julle vaders dan vol! ... sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom” (Matt. 23:27-36). Abel was die eerste martelaar in die Hebreeuse geskrifte van die Ou Testament, en Sagaria die laaste een.

Die geslag Jode wat deur die Here Jesus aangespreek is, het die maat van hulle vaders se ongeregtighede heeltemal volgemaak. Hulle het nie beswaar gemaak toe Herodes vir Johannes die Doper, die wegbereider van Jesus, laat doodmaak het nie. Jesus het hulle erg verkwalik omdat hulle nie hierdie groot profeet aanvaar en geglo het nie (Matt. 21:25). Daarna het hulle die Messias verraai en gevra dat Hy gekruisig moes word (Matt. 27:22). Toe het hulle nóg verder gegaan en vir Stefanus gestenig, wat die eerste martelaar van die Messias se kerk was. In ‘n lang rede het Stefanus die Joodse volksleiers aan die sonde en rebellie van hulle voorvaders herinner (Hand. 6:8–7:60). Hy het diegene wat die profete doodgemaak het, vergelyk met die leiers van sy tyd wat op die dood van die Messias aangedring het, en hulle ook daarvan beskuldig dat hulle die Heilige Gees weerstaan: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het” (Hand. 7:51-52). Die oordele van die Here het oor hulle gekom.

In 70 n.C. is Jerusalem deur die Romeine verwoes, terwyl die oorlewende Jode weggevoer is in wat uiteindelik op hulle internasionale verstrooiing na al die nasies uitgeloop het (Luk. 21:20,24) – ‘n situasie wat tot in die laaste geslag van die Christelike dispensasie sou voortduur. Die ongeredde Jode sou dan na hulle land terugkeer, soos wat inderdaad sedert 1948 gebeur, om deur ‘n tyd van groot benoudheid te gaan voordat die Messias sal kom om ‘n oorblyfsel van die volk te red. Die Here se oproep tot bekering in Sagaria sal dan eers ten volle eerbiedig word.

3. ‘n Boodskap van herstel (8:1-17)

Terwyl Sagaria 7 op die oproep tot bekering in 1:2-6 gebaseer is, en ook die ernstige gevolge aandui wat sal intree indien daar nie aan dié oproep gehoor gegee word nie, vestig hoofstuk 8 die aandag op die beloofde seëninge wat uit die naggesigte blyk (1:7–6:8), en wat die gevolg van ‘n grondige bekering en hartsverandering sal wees. Die derde en vierde boodskappe beskryf die herstel uit die Babiloniese ballingskap in die tyd van Sagaria, as ‘n heenwysing na toekomstige seëninge in die millennium. Die beloofde seëninge sal nie net tot Israel alleen beperk wees nie, omdat die Here se geregtigheid en vrede die hele aarde sal vervul.

God se ywer oor Sion (dit is die inwoners van Jerusalem) word duidelik bevestig (8:2; vgl. 1:14; Joël 2:18) en dit sal tot groot seëninge lei: “So sê die HERE: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon” (8:3). Hierdie belofte sal in die millennium vervul word wanneer Christus na Jerusalem sal terugkeer om van die troon van Dawid af te regeer (Hand. 15:16-17). “Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die HERE van die leërskare: Die heilige berg” (8:3; vgl. Jes. 2:2-3). Dit sal die hoofstad van die wêreld wees.

In daardie tyd sal die hele oorblyfsel van Israel gered wees: “So sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek gaan my volk verlos uit die land van die ooste en uit die land van die weste en hulle aanbring; en hulle sal midde-in Jerusalem woon. Dan sal hulle vir My ‘n volk wees en Ék sal vir hulle ‘n God wees, in trou en geregtigheid” (8:7-8). In ‘n ooreenstemmende profesie wat deur Jesaja opgeteken is, sê die Here: “Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland... Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af. Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie!” (Jes. 43:3-6).

Die geredde oorblyfsel van Israel sal voorspoedig wees in die land (8:11-12). Hulle sal ook ‘n seën vir al die nasies van die wêreld wees (8:13; vgl. Rom. 11:12). Hoewel God ‘n regverdige God is wat sonde straf, is Hy ook ‘n God van groot liefde en genade, wat graag wil vergewe en herstel: “Soos Ek My voorgeneem het om julle kwaad aan te doen, toe julle vaders My vertoorn het, sê die HERE van die leërskare, en Ek daar geen berou van gehad het nie – so het Ek My weer voorgeneem om in hierdie dae goed te doen aan Jerusalem en die huis van Juda. Wees nie bevrees nie” (8:14-15).

4. ‘n Boodskap van blydskap (8:18-23)

Die Here het tot op hierdie oomblik gewag om die vraag van die afvaardiging uit Bet-el te beantwoord, naamlik of hulle moes aanhou om te vas en te ween ter herinnering aan die vernietiging van Jerusalem en die tempel (7:2-3). God het gesê dat die vasdae in tye van blydskap en vrolike feesdae verander moes word (8:19). Twee bykomende vasdae word in hierdie vers genoem (vgl. 7:3-5) – een op die tiende dag van die tiende maand om die begin van die beleëring van Jerusalem te herdenk (2 Kon. 25:1-2; Jer. 39:1), en een op die negende dag van die vierde maand om die inname van Jerusalem deur Nebukadnésar te herdenk toe die stadsmuur gebreek is (2 Kon. 25:3-4; Jer. 39:2). Hierdie vasdae was selfopgelegde geleenthede wat 70 jaar lank tydens die ballingskap met ‘n getreur en verkeerde, selfsugtige motiewe nagekom is (vgl. 7:5-7).

Die vasdae is egter nie in Sagaria se tyd beëindig nie, en word vandag nog nagekom. Die vooruitsig vir die nabye toekoms, in die tyd van die benoudheid van Jakob (Jer. 30:7), is dat daar selfs meer feesdae in vasdae omskep sal word (12:10-14; vgl. Amos 8:10). Maar dan, nadat die Messias in krag en heerlikheid gekom het om Israel en Jerusalem ten volle te herstel en geestelik te laat herleef, sal die vasdae in feesdae verander word om die vreugde van Israel se redding én die Messias se vrederyk te vier. Daar sál dus ‘n tyd van vrede en seën vir Israel aanbreek wanneer niemand meer aan die rampe van die verlede sal dink nie, maar almal slegs tot eer van hulle Verlosser sal feesvier (vgl. Jes. 61:2-3; 65:18-19).

Die heerlikheid van die Messias sal ver buite Israel skyn en die hele wêreld verlig, “want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Hab. 2:14). Die heerlikheid van die Messias sal egter só besonders deur Israel vertoon word, dat al die nasies dit sal sien en begeer om ook daarin te deel:

“So sê die HERE van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die HERE om genade te smeek en die HERE van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek... In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (8:20-23).

Jeremia bevestig hierdie wonderlike toekoms van Jerusalem: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die HERE; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17; vgl. Miga 4:1-3). Hierdie wonderlike tyd sal slegs aanbreek nadat die Messias met sy wederkoms sy voete op die Olyfberg in Jerusalem neergesit het (14:4-5).

 

Sagaria 9-10. Die Koninkryk van die Vredevors

Die laaste gedeelte van Sagaria se boek bestaan uit twee godsprake wat vooruitsien op die Messias-Koning en sy koninkryk. Hoofstukke 9 tot 11 verwys hoofsaaklik na die eerste koms van die Messias, met die beklemtoning van sy verwerping, maar gee ook ‘n profetiese aanduiding van Israel se geskiedenis tot in die eindtyd. Hoofstukke 12 tot 14 fokus op die Messias se wederkoms en beklemtoon sy koningskap op die troon van Dawid as die hoogtepunt van Israel se geskiedenis. Die twee godsprake het verskeie gedeeltes wat verder op die temas van die agt naggesigte uitbrei, en bevestig daardeur die eenheid van die hele boek.

Oordele oor Israel se vyande (9:1-8)

Hierdie verse beskryf die vernietiging van verskeie van Israel se vyande. Alexander die Grote van Griekeland word as die menslike instrument van vernietiging beskryf, maar in hierdie profesie word die uiteindelike, goddelike oorsprong van die oordele bekend gemaak. Hadrag was ‘n stad en landstreek ten noorde van Hamat. Damaskus was die hoofstad van Aram (Sirië) en Hamat was ook ‘n Siriese stad. Weswaarts, aan die kus, was die Fenisiese stede van Tirus en Sidon. Hulle is almal deur Alexander verwoes, en sodoende is God se oordele oor hulle voltrek (9:1-4). Alexander het in sy veldtog ook die Filistynse stede van Askelon, Gasa, Ekron en Asdod vernietig (9:5-7).

As gevolg van die Here se beskerming het soldate van Alexander twee keer naby Jerusalem verbygetrek sonder om die stad aan te val. Die Here het gesê: “Ek sal om my huis ‘n laer trek teen die leërmag, teen die wat heen en weer trek, sodat geen oorheerser hulle weer sal oorrompel nie” (9:8). Die goddelike beskerming van Jerusalem dui op die Here se finale beskerming van die stad in die millennium wanneer Jerusalem nooit weer deur vyande ingeval sal word nie. “Dan sal julle weet dat Ek die HERE julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg; dan sal Jerusalem ‘n heiligdom wees waar geen vreemdes meer deur sal trek nie” (Joël 3:17). Die duiwel-geïnspireerde pogings wat direk voor en ná die duisendjarige ryk van die Messias aangewend sal word om Jerusalem te vernietig, sal deur groot oordele van God afgeweer word (Sag. 14:12-13; Op. 20:7-9).

Die verwoesting van vyandelike koninkryke, stede, regerings en soldate is ‘n aanduiding van God se oordele oor die werklike vyande van sy koninkryk – die duiwel en sy handlangers. In die Ou Testament is alle volke buite Israel as heidense volke met heidense konings, heidense kulture en heidense godsdienste beskryf (Ps. 96:5). Hulle het in werklikheid die duiwel in plaas van God aanbid. Paulus sê dat dit wat die heidene offer, aan duiwels geoffer word en nie aan God nie (1 Kor. 10:20). Om hierdie rede is hulle vyande van God wat aan sy oordele onderworpe is (Rigt. 5:31; Jes. 66:6).

Alle heidense koninkryke is vestings van Satan, en dus geswore vyande van God en sy volk, Israel. Tirus, wat in Sagaria 9:2-4 genoem word, dui simbolies op Satan en sy duistere koninkryk. Die Here het gesê dat Hy Tirus sou neerwerp, sy mag sou verbreek en dat die stad deur vuur verteer sou word. Hierdie profesie teen Tirus is nie alleen tydens die verowering deur Alexander letterlik vervul nie, maar lank voor die tyd het die Here die werklike koning van Tirus, dit is Satan, op ‘n soortgelyke wyse geoordeel (vgl. Eseg. 28:1-19). Satan is eers uit die hemel neergewerp, ná ‘n aansienlike tyd is sy mag op aarde deur die Messias verbreek (Heb. 2:14), en uiteindelik sal hy in die poel van vuur aan ewige verbranding oorgegee word (Op. 20:10).

In die lig van hierdie duidelike feite moes Israel ‘n afgesonderde volk wees wat nie met die heidense volke meng nie. Hulle is daaraan verbind om heilig voor die Here te wandel (Lev. 19:2) en net vir Hom te aanbid en te dien (Deut. 6:13). Enige kompromie met die heidense volke en hulle bose werke sal deur die Here as rebellie beskou en gestraf word (vgl. Deut. 32:16-22; 2 Kron. 24:18). Nie Israel of die nasies het enige toekoms voor die aangesig van die Here sonder dat hulle die Messias, die Gesalfde Een, die Seun van God wie se wêreldregering in Sion gevestig sal word, aanvaar en dien nie. God sê: “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg... Wees dan nou verstandig, o konings... Dien die HERE met vrees... Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil (Ps. 2:6,10-12).

Daar kon vir Israel geen beter nuus wees as dat God se Seun in hulle midde gebore sou word nie: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n Seun baar en Hom Immánuel [God met ons] noem” (Jes. 7:14). Hierdie belofte is aan Maria bevestig toe sy aan Josef verloof was: “En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal Koning wees oor die huis van Dawid tot in ewigheid” (Luk. 1:31-33).

Koms van die Messias (9:9)

Sagaria beskryf duidelik die koms van Israel se Koning na Jerusalem in die gedaante van ‘n nederige Persoon wat hulle Here en Verlosser sal wees: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel” (9:9).

Die uitdrukkings “dogter van Sion” (vgl. 2:10) en “dogter van Jerusalem” verwys na die hele Israelse volk. Hulle is opgeroep om hulle Koning nie met vrees te verwelkom nie, maar met blydskap en gejuig. Die aankondiging “jou Koning kom na jou” verwys na die koms van die lank verwagte Koning en Messias. Jesaja noem Hom die Vredevors wat op die troon van Dawid sal sit (Jes. 9:6-7). Miga sê Hy sal ‘n Heerser in Israel wees wat groot sal wees tot aan die eindes van die aarde (Miga 5:1-3). Hy sal ‘n regverdige Koning wees (vgl. Jesaja 11:1-5; Jer. 23:5-6). Die uitdrukking dat Hy ‘n oorwinnaar is beteken dat Hy ‘n Verlosser is wat sy volk uit die vyand se mag sal verlos: “Die HERE jou God is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap” (Sef. 3:17).

Die Messias het Homself aan Israel gebied tydens sy intog in Jerusalem, toe Hy op ‘n donkie gery het (Matt. 21:1-5). In antieke tye het ‘n koning wat in vrede gekom het, op ‘n donkie gery en nie op ‘n oorlogsperd nie. Die Here Jesus het op ‘n donkie gery. Soos ander Ou Testamentiese profesieë, laat hierdie een (9:9-10) twee gebeurtenisse saamvloei – gebeurtenisse wat in die Nuwe Testament as twee duidelike komste van Christus onderskei word, met die kerkbedeling tussen die twee (vgl. Jes. 9:6-7; 61:1-2; Luk. 4:18-21). Tydens sy eerste koms het Hy op ‘n donkie gery en Homself aan Israel gebied, maar hulle het Hom as hulle Koning verwerp. Sy wêreldregering (9:10) sal gevestig word wanneer Hy terugkom, hierdie keer op ‘n wit perd, om sy vyande te oordeel en die oorblyfsel van Israel te red (Op. 19:11-15; Sag. 13:9).

Koninkryk van die Messias (9:10–10:12)

Wanneer Hy weer kom, sal die Messias vrede op aarde vestig, Israel red, die valse herders vernietig en die hele Israel herstel:

Die Messias sal vrede op aarde vestig (9:10)

Ná die finale slag van Armageddon sal die Messias ‘n einde aan oorlogvoering bring en sy vrederyk op aarde vestig: “Ek sal die strydwaens uit Efraim en die perde uit Jerusalem uitroei, en die strydboog sal vernietig word. Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde” (9:10).

Ná hierdie groot oorlog sal die nasies “van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:4). Die Messias sal ‘n wêreldregering hê wat anderkant die Eufraatrivier en oorkant die oseane tot aan die eindes van die aarde sal strek (vgl. Miga 7:12).

Die Messias sal Israel verlos (9:11-17)

God se belofte oor die verlossing en herstel van Israel word dikwels in die Bybel herhaal: “Ook sal Ek wat jou betref, o Sion, kragtens die bloed van jou verbond jou gevangenes loslaat uit die put sonder water. Keer terug na die vesting, o hoopvolle gevangenes! Ook kondig Ek vandag aan dat Ek jou dubbel sal vergoed” (9:11-12). God se getrouheid aan sy verbonde met Israel is die waarborg vir hulle verlossing uit hulle internasionale verstrooiing (vgl. Lev. 26:44-45). Die bloed van die verbond verwys na die ou verbond wat in Sagaria se tyd nog geldig was (vgl. Ex. 24:8; Heb. 9:18-22), maar dit was tipologies van die Messias se offer in die volheid van die tyd. Petrus het die Messiaanse gelowiges in Israel daaraan herinner dat hulle vrygekoop is deur die kosbare bloed van die Messias, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos (1 Pet. 1:18-19). Lede van Israel en die nasies kan slegs deur die bloed van die nuwe en ewige testament vergewe en volmaak gemaak word (Heb. 13:20-21).

Die Here het aan Israel belowe dat Hy hulle gevangenes kragtens sy verbond met die volk sal vrylaat. Dit verwys nie slegs na die terugkeer van die Joodse ballinge uit Babilon nie, maar ook na die eindtydse herstel van die volk uit hulle wêreldwye ballingskap. Die waterlose put verwys na hulle plek van ballingskap en die vesting waarheen hulle moet terugkeer, na Jerusalem. In die eindtyd sal die Here twee keer soveel Jode herstel, wat daarop dui dat sy seëninge in die millennium veel groter sal wees as enigiets wat Israel al ontvang het.

Sagaria 9:13-17 verwys na Israel se verlossing van die seuns van Jawan (9:13; Jawan beteken Griekeland en is in Dan. 8:21, 10:20 en 11:2 as Griekeland vertaal). Alexander die Grote van Griekeland het in 323 v.C., op die ouderdom van 32, aan malaria gesterf met komplikasies as gevolg van alkoholisme. Sy koninkryk is onder sy vier generaals verdeel, en onder hulle is Ptolemeus oor Egipte aangestel en Seleukus oor Sirië en Mesopotamië. Gedurende verskillende tye in die geskiedenis het Sirië en Mesopotamië saam as Sirië, Assirië of Babilonië bekend gestaan. Vanuit die perspektief van Israel word daar na die konings van Sirië en Egipte as die koning van die noorde en die koning van die suide, onderskeidelik, verwys (vgl. Dan. 11). Hierdie konings en hulle opvolgers het Israel dikwels aangeval en oorheers, veral Antiochus en sy opvolgers uit die noordelike, Siriese koninkryk. Die ergste diktator onder hulle was Antiochus Epifanes. Israel is gedurende die Makkabeër-tydperk net gedeeltelik van die seuns van Jawan, of Griekeland, verlos, maar sal ten volle van die eindtydse Assiriese tiran verlos word. Sagaria sê: “Die HERE hulle God sal hulle in dié dag verlos” (9:16). “Dié dag” verwys na die komende verdrukking, die wederkoms van die Messias én sy daaropvolgende vrederyk in die millennium.

Die eindtydse seun van Griekeland sal die Antichris, of valse messias, wees wat oor Sirië en Mesopotamië sal regeer, verwysende na die huidige Sirië en Irak. Hy sal spoedig ook wyer magte verkry. Hy sal dus die eindtydse koning van die noorde wees wat ook die titels “die Assiriër” en “die koning van Babilon” sal verkry. Jesaja beskryf Israel se verlossing uit hierdie vors se oorheersing: “Maar as die Here sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë... En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die HERE, die Heilige van Israel, in opregtheid. Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe” (Jes. 10:12,20-21). Hulle sal dan finaal van die juk van hul vyand verlos word, veral van die Assiriër, en tye van goedheid en oorvloed beleef (9:17).

Die Messias sal die valse herders vernietig (10:1-5)

“Die huisgode spreek bedrog, en die waarsêers sien leuens en verkondig nietige drome, hulle troos met wind... [My volk] verkeer in verdrukking omdat daar geen herder is nie... Oor die voorbokke (of bokwagters) sal Ek besoeking bring, want die HERE van die leërskare gee ag op sy kudde” (10:2-3). Die Here sal die valse profete vernietig wanneer die Messias, die groot Herder van die skape, na Israel terugkeer. Die valse herders word as bokwagters beskryf, wat daarop dui dat hulle valse profete is. Sulke mense laat nie die skape wei nie, maar mislei hulle en eindig self as bokwagters – ongeredde leiers wat hulle ore van die waarheid afgekeer het en valse hoop aan hulle ewe ongeredde kuddes “bokke” gee.

Die Messias word op ‘n viervoudige wyse as ‘n hoeksteen, ‘n muurpen (of tentpen, soos wat dieselfde woord in Rigters 4:21 vertaal is), ‘n strydboog en ‘n heerser beskryf (10:4). As die kosbare Hoeksteen is Hy die vaste fondament waarop alle mense se lewens gebou kan word (Jes. 28:16; 1 Pet. 2:4-6). Vir die ongereddes sal Hy ‘n rots van struikeling wees om hulle te vernietig (Jes. 8:14-15; 1 Pet. 2:8). As die Tentpen is Hy ‘n vaste anker wat stabiliteit aan sy dissipels se lewens verleen – ook aan volke wat Hom erken en navolg (vgl. Jes. 33:20; Spr. 14:11). As die Strydboog beskerm Hy sy volk en sy volgelinge teen hulle vyande (Ex. 15:3; Ps. 45:6; Ps. 110:5-6). Die Messias sal nie alleen wees wanneer Hy veg nie, maar ook sy volk bekragtig om soos helde die oorwinning te bereik (10:5). As die Heerser sal Hy oor die huis van Israel én oor die hele wêreld regeer (Miga 5:1,3).

Die Messias sal die hele Israel herstel (10:6-12)

Hierdie profesie verwys na die finale herstel van Israel net ná die wederkoms van die Messias, en dit sal die voortsetting en voleinding van hulle gedeeltelike herstel voor sy koms wees: “Ek sal die huis van Juda sterk maak... en hulle ‘n woonplek aanwys, want Ek ontferm My oor hulle; en hulle sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie, want Ek is die HERE hulle God, en Ek sal hulle verhoor... Hulle hart sal juig in die HERE. Ek wil vir hulle fluit en hulle vergader, want Ek het hulle losgekoop; en hulle sal net so talryk wees soos tevore” (10:6-8).

God het aan Sefánja meer inligting oor hierdie finale versameling gegee: “In dié dag sal aan Jerusalem gesê word: Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie slap hang nie! Die HERE jou God is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel... Kyk, in dié tyd sal Ek met al jou verdrukkers handel; en die wat kreupel is, sal Ek red; en die wat verjaag is, versamel; en Ek sal hulle maak tot ‘n lof en tot ‘n roem wie se skande oor die hele aarde was. In dié tyd sal Ek julle aanbring, ja, in die tyd wanneer Ek julle versamel; want Ek maak julle tot ‘n roem en tot ‘n lof onder al die volke van die aarde, wanneer Ek voor julle oë julle lot verander, sê die HERE” (Sef. 3:16-20).

 

Sagaria 11. Verwerping van die Goeie Herder

Sagaria is ‘n profeet van hoop. In hoofstukke 9 en 10 word die hoopvolle temas van die oordele oor Israel se omringende vyande bespreek, asook die versekering dat Israel bewaar sal word om die eerste sowel as die tweede koms van hulle Koning te sien (9:9-10), terwyl ‘n oorblyfsel van die volk ook die oorwinning en seëninge sal ervaar wat die Messias vir Jerusalem en sy mense sal bring (9:11–10:12).

Skielik, in hierdie donker hoofstuk, word ons egter gekonfronteer met die feit dat Sagaria nie slegs, soos die valse profete, hoop en oorwinning verkondig nie, maar ook goddelike toorn en oordeel. Die valse profete het vir Jerusalem gesigte van vrede verkondig, terwyl daar geen vrede was nie (Eseg. 13:16; vgl. Jer. 8:11). Sagaria het homself nie daaraan skuldig gemaak om aan mense valse hoop te gee terwyl hulle geestelik gedwaal het nie. Hy het hulle gewaarsku oor die ernstige gevolge wat dit vir die hele volk sou inhou indien hulle die goeie Herder sou verwerp en die nuttelose herder (die valse messias) in sy plek aanvaar.

Die begin van oordele (11:1-3)

Die eerste waarskuwing aan Israel oor die gevolge van hulle geestelike blindheid en rebellie teen God was dat die land en sy plantegroei verwoes sou word. Bome en digte woude sou verdwyn, insluitende die pronkbosse van die Jordaan. Selfs die leeus wat in die bosse langs die Jordaan gebly het, sou brul omdat hulle natuurlike habitat verdwyn het (11:1-3). Dit het inderdaad gebeur en Israel het ‘n semi-woestynland geword.

Redes vir die verwoesting in Israel (11:4-14)

Die Here het vir Sagaria beveel om Israel se ware Herder-Messias voor te stel, en daarna moes hy die slegte herder voorstel wat op die eindtydse Antichris dui. Hierdie gedeelte vestig die aandag op Israel se geestelike toestand tydens Christus se aardse bediening, asook die gevolge van die verwerping van die ware Herder.

Die opdrag: “Wees herder van die slagskape” (11:4) impliseer die voorbereiding van die kudde vir dit wat vir hulle voorgelê het. Verskeie profete het Israel teen die toekomstige toorn van God gewaarsku, sodat hulle presies geweet het wat met hulle sou gebeur indien hulle die rug op die Here draai. Die laaste twee herders, of profete, wat hulle gewaarsku het, was Johannes die Doper (Matt. 3:7) en Jesus die Messias (Matt. 23:13-39). Jesus het aan die inwoners van Jerusalem gesê: “Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:43-44).

God het Israel as slagskape aan die Romeine uitgelewer omdat hulle hul Messias-Koning, Jesus, verwerp het en verkies het om eerder ‘n heidense koning in sy plek te dien. Pilatus het vir die Jode gesê: “Dáár is julle Koning! Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie. Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei” (Joh. 19:14-16).

Die vernietiging van Jerusalem en die begin van Israel se internasionale verstrooiing het in die jaar 70 n.C. gebeur. In die beleg en inname van die stad is daar 1,1 miljoen Jode dood, terwyl die 97 000 oorlewendes as krygsgevangenes weggevoer is. Baie van hulle is op slawemarkte verkoop en die res het na verskeie lande verstrooi geraak. Omdat hierdie oordeel spesifiek vir dié Jode bedoel was wat die Messias verwerp het, is die dissipels van Jesus vooraf gewaarsku om die stad te verlaat. Jesus het vir hulle gesê:

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daarin inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word... Daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20-24). Die Messiaanse Jode het Jerusalem net ná die stad se eerste beleëring in 66 n.C. verlaat, voor die finale Romeinse beleg wat in 70 n.C. plaasgevind het.

Die groot slagting onder die afvallige kudde het plaasgevind presies soos wat dit voorspel is. Hulle Koning wat as ‘n nederige Persoon gekom en op ‘n donkie gery het, is verwerp en gekruisig. Hulle het nie op sy oproep tot redding ag geslaan nie, en ook nie op sy waarskuwings oor die naderende oordele nie. Wie het hulle mislei om hulle eie ondergang te bewerk? Dit was die werk van valse herders. Die geestelike leiers van Israel was blind en onkundig. Hulle was slegte herders wat nie vir die volk omgegee het nie, maar hulle aan die magte van die duisternis uitverkoop het (11:5). Hierdie slegte herders het die duiwel as vader gehad (Joh. 8:44) en het nie omgegee oor wat hulle aan hul volk gedoen het nie. As gevolg van hulle berekende besluit om die goeie Herder te verwerp, waarin die volk hulle ook nagevolg het, het God gesê: “Ek sal met die inwoners van die land geen medelye meer hê nie” (11:6).

Die volk sou as slagskape voorberei word deur die staf Lieflikheid (genade) en die staf Samebinding (eenheid) te gebruik en hulle later, op grond van die volk se reaksie, te verbreek. Die goeie Herder het sy genade vir die vergifnis van sonde aan die kudde verkondig, terwyl Hy die oorlewing van ‘n verenigde Joodse volk (‘n eenheid van die huise van Israel en Juda) belowe het, ten spyte van die oordele wat oor hulle sou kom (11:7). Die “ellendige skape” verwys na die Messiaanse Jode wat op die woorde van die Herder ag geslaan het.

In 11:8 sê die Here: “Ek het die drie herders in een maand vernietig. Toe het my siel ongeduldig geword oor hulle, terwyl hulle siel ook van My afkerig geword het.” Die woord “vernietig”  (kachad in Hebreeus) kan ook “ontslaan” beteken. Die drie slegte herders verwys waarskynlik na drie politieke en godsdienstige leiers wat Israel tydens Jesus se kruisiging gehad het omdat hulle nie na God geluister en die gesag van sy Priester-Koning, die Messias, aanvaar het nie. Die drie slegte herders wat oor hulle regeer het, was die hoëpriester, Kajafas (Matt. 26:57-68), wat die Joodse Raad én die hele volk mislei het om Jesus as Messias te verwerp; Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur, wat onaanvaarbare heidense beheer oor Israel uitgeoefen en onregmatiglik vir Jesus oorgegee het om gekruisig te word (Matt. 27:11-31); en koning Herodes Antipas wat die Koning van Israel met uiterste minagting behandel het, en sonder om die uitspraak teen Hom te bevraagteken, na sy teregstellers teruggestuur het (Luk. 23:7-11). Nie een van hierdie drie “herders” het op goeie advies gereageer nie, en Jesus het hulle valse aanklagte verwerp deur nie eers daarop te reageer nie. Kajafas is later deur die Siriese goewerneur van die Romeinse ryk ontslaan, Pilatus is as gevolg van korrupsie ontslaan en verban, en het uiteindelik selfmoord gepleeg, terwyl Herodes Antipas ook ontslaan en vir die res van sy lewe verban is. Hulle het almal hulle lot in dieselfde maand verseël toe hulle Jesus verraai het.

Die interne Joodse leiers wat basies vir die sameswering teen die Messias verantwoordelik was, was die owerpriesters, die ouderlinge, die skrifgeleerdes, die Fariseërs en die Sadduseërs (Matt. 16:6; 21:45-46; 26:57; 27:12,62-63). Hulle het die hele volk teen Jesus opgesweep, en selfs vir Pilatus teëgestaan toe hy vir Jesus onskuldig wou verklaar en vrylaat. Hulle het Pilatus oorreed om met sy verraad teen Jesus voort te gaan, deur te sê: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom” (Matt. 27:22-25). Die hele kudde het dus ‘n vloek op hulleself gebring en sodoende hulleself oorgelewer om geslag te word.

Die goeie Herder het sy staf Lieflikheid gebreek, wat daarop dui dat Hy sy verbond met die bose mense wat Hom verwerp het, verbreek (vgl. Matt. 21:33-45). Hy het hulle toe aan hongersnood oorgegee sodat hulle selfs mekaar begin eet het, en ook aan die dood (11:9-10). Hierdie rampe het oor die geslag mense gekom wat tydgenote van die goeie Herder was (Matt. 23:34-36). Dié donker dae kon nie heeltemal as ‘n verrassing gekom het nie, omdat dit in besonderhede deur Moses beskryf is: “As jy nie luister na die stem van die HERE jou God nie... dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal... Die HERE sal teen jou ‘n nasie bring van ver af... En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het... En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat die HERE jou God jou gegee het, in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou benoud sal maak” (Deut. 28:15,49,52-53). Hierdie profesieë is met die Romeinse leërs se inname en van Jerusalem in 70 n.C. letterlik vervul.

Die ellendiges onder die skape (die gelowige oorblyfsel in Israel) het die waarskuwings van die Messias verstaan en dit ter harte geneem (11:11). Hulle het die rampe oor Jerusalem ontsnap (Luk. 21:20-21) omdat hulle nie na die valse profete geluister en sodoende die knie voor Baäl gebuig het nie.

Die verkoop van die Messias deur Israel se leiers word só deur Sagaria beskryf: “Daarop sê ek vir hulle: As dit goed is in julle oë, gee dan my loon; en so nie, laat dit dan staan. Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer. Hierop sê die HERE vir my: Gooi dit vir die pottebakker – die heerlike prys waarmee Ek deur hulle gewaardeer is! En ek het die dertig sikkels silwer geneem en dit in die huis van die HERE vir die pottebakker gegooi” (11:12-13). Israel se waardebepaling van die ware Herder was 30 sikkels silwer, wat as vergoeding gegee is vir ‘n slaaf wat deur ‘n bees gestoot is (Ex. 21:32). Die keuse van die prys vir ‘n slaaf is as ‘n belediging vir die Herder bedoel – erger as die direkte weiering om aan Hom enige loon te betaal. Hierdie profesie is letterlik vervul: “Toe gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskariot, na die owerpriesters en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg” (Matt. 26:14-15). Later, toe Judas die geld teruggebring het, is dit gebruik om die grond van die pottebakker mee te koop (Matt. 27:3-10).

Die ander staf van die Herder (Samebinding) is ook verbreek (11:14) en dui op die verbreking van Israel se nasionale solidariteit. Verdeeldheid binne die volk was een van die belangrike faktore wat in 70 n.C. tot die vernietiging van Jerusalem bygedra het, en dus ook na die wêreldwye verstrooiing van die volk daarna.

Die finale gevolg van die Herder se verwerping (11:15-17)

Ná hulle verwerping van die ware Herder sou die kudde van Israel nie net doodgemaak, uit hulle land verdryf en onder die nasies verstrooi word nie, maar hulle sou met hulle geestelike blindheid volhard en aanhou om na valse herders te luister. In die eindtyd sou hulle deur die Here in hul land herstel word om verdere verdrukking en goddelike oordele te verduur, omdat hulle steeds nog net so blind en rebels as hulle misleide voorvaders is wat die Messias verraai het (vgl. Eseg. 22:19-22; Jer. 30:7). Hulle geestelike blindheid en gebrek aan onderskeidingsvermoë sal daartoe lei dat hulle ‘n verbond met die valse messias, die Antichris, sluit. Die ware Herder het gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). In hulle uiterste dwaasheid, terwyl hulle van God, van sy Seun én van sy Woord vervreem is, sal hulle die valse messias aanneem.

“Daarop sê die HERE vir my... Kyk, Ek sal ‘n herder verwek in die land; na wat verlore is, sal hy nie omsien nie; wat verstrooi is, nie opsoek nie; en wat gebroke is, nie genees nie, en wat nog regop staan, nie versorg nie. Maar die vleis van die vettes sal hy eet en selfs hulle kloue afruk. Wee die slegte herder wat die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm tref en sy regteroog! Mag sy arm heeltemal verdor en sy regteroog heeltemal verduister word!” (11:16-17).

Israel sal hierdie dwase en nuttelose herder wat presies die teenoorgestelde as die Messias, die ware Herder, is, aanvaar. Hy sal nie vir die kudde omgee of in hulle behoeftes voorsien nie, maar net uiting aan sy eie inhaligheid gee. In plaas daarvan om die kudde te beskerm, sal die slegte herder dit vernietig. Sy arm dui op sy krag en sy oog op sy intelligensie. Sy krag sal verbreek en die dwaasheid van al sy “slim” planne geopenbaar word wanneer die ware Herder kom. Die slegte herder en sy mederegeerder, die valse profeet, sal dan tot die poel van vuur veroordeel word (Op. 19:20).

Hierdie hoofstuk in Sagaria beklemtoon die feit dat daar, geestelike gesproke, in Israel én in die wêreld net twee groepe mense is – die ongereddes wat kinders van die duiwel is (Joh. 8:44) en die gereddes wat kinders van God is (Fil. 2:15). “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh. 5:12). Daar is geen middeweg nie; jy volg óf die ware Herder óf jy volg een of ander valse herder wat ‘n wegbereider vir die eindtydse valse messias, die Antichris, is. As ‘n volgeling van die ware Herder sal jy die ewige lewe beërf, asook ryke seëninge van die Here, maar die volgelinge van die slegte herder sal die oordele van God beërf, asook die ewige dood in die poel van vuur.

Alle mense het ‘n vrye wil en moet ‘n besliste keuse maak om Jesus Christus as hulle Verlosser aan te neem. Om bloot net ‘n lid van die uitverkore volk (Israel) of ‘n lid van ‘n Christelike kerk te wees, kwalifiseer jou nie outomaties as ‘n volgeling van die Messias nie. Alle mense is in sonde ontvang en gebore en moet ‘n lewensveranderende oorgawe aan Jesus Christus maak, wat die enigste Verlosser van die wêreld is. Hy het gekom tot ‘n val en opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sou word (Luk. 2:34). Het jy uit die doodsheid van jou sondige verlede opgestaan? Dawid het gebid: “Verlig my oë, sodat ek nie in die dood inslaap nie” (Ps. 13:4). Paulus sê: “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn” (Ef. 5:14). Om Hom te ignoreer of te verwerp deur na sinnelose argumente te luister dat Hy nie die beloofde Messias en Seun van God is nie, kom daarop neer om in duisternis te wandel en jou ewige verlorenheid in die hand te werk.

Die geestelike verblinding wat deur valse herders oor Israel gebring is, sal eers tydens die Messias se tweede koms finaal verdwyn. Dit is die onderwerp van die volgende twee hoofstukke in Sagaria. Daniël bevestig ook die feit dat die maat van Israel se sonde eers aan die einde van hulle 70ste jaarweek van heilsgeskiedenis ná die Babiloniese ballingskap, wat die komende verdrukking van sewe jaar is, vol sal wees (Dan. 9:24). Neem in ag dat die kerkbedeling, of tye van die nasies, ná Israel se 69ste jaarweek ingepas is toe hulle hul Messias-Koning verwerp het. Ná die kerkbedeling sal hulle vir sewe jaar lank ‘n verbond met die valse messias sluit (Dan. 9:27), en aan die einde van dié sewe jaar sal die Messias weer kom. Tydens ‘n nasionale bekering sal die hele volk se sonde vergewe en hulle ongeregtigheid versoen word. Almal van hulle sal geestelik nuut gemaak word om die Here van harte te dien. Ewige geregtigheid sal dan vir Israel in die Messiasryk aanbreek.

 

Sagaria 12-13. Die Verlossing van Israel

In hulle Bible Knowledge Commentary sê proff. Walvoord & Zuck: “Twee voorwaardes is vir die vestiging van Israel se toekomstige Messiaanse koninkryk noodsaaklik: (a) die omverwerping van nie-Joodse wêreldmagte wat die vestiging van Israel se koninkryk teëstaan, en (b) die redding van individuele Jode wat die volk sal verteenwoordig wanneer die Here die Abrahamitiese en Davidiese verbonde aan hulle vervul. Die Here sal aan beide hierdie voorwaardes uitvoering gee, soos in hoofstukke 12 en 13 beskryf. Hy sal Israel fisies van hulle vyande verlos (12:1-9) en hulle daarna ook geestelik verlos (12:10–13:9).”

Hoofstuk 11 is ‘n noodsaaklike voorspel tot die gebeure in die volgende hoofstukke. Die verwerping van die goeie Herder en die aanvaarding van slegte een is ‘n beeld van die toestand waaruit die volk bekeer, herstel en gereinig moet word. Israel is die verlore seun wat na die Vaderhuis moet terugkeer (vgl. Luk 15:11-24). Die opkoms van die slegte herder (hfst. 11) is noodsaaklik om die volk in ‘n toestand van sware toetsing en beproewing te bring (Jer. 30:7), sodat die gesuiwerde oorblyfsel weens hulle sondes die aangesig van die ware Herder met gebroke harte kan soek (hfst. 12-13).

Israel se fisiese verlossing (12:1-9)

Duidelike stellings word oor ‘n internasionale sameswering teen Israel en hulle hoofstad, Jerusalem, gemaak. Die groot oorlog teen Jerusalem sal tot die totale vernietiging van hulle vyande lei. Die Here wat hemel en aarde gemaak het, asook al die lewende wesens, het alle mag in die hemel en op aarde (12:1). Hy sê:

“Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seermaak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word... In dié dag sal die Here die inwoners van Jerusalem rondom beskut... Ook sal Ek in dié dag daarna soek om al die nasies wat teen Jerusalem aankom, te verdelg” (12:2-3,8-9).

Die nasies is hardnekkig met onweergebore en bose harte, en om daardie rede sien hulle op Israel neer en haat Jerusalem. Omdat hulle deur die magte van die duisternis beheer word, wil hulle nie die Heilige van Israel erken en dien nie. Nou, in die eindtyd, is daar baie van Israel se vyande in die Midde-Ooste wat hulle voorvaders se sameswering van eeue gelede herhaal deur te sê: “Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie” (Ps. 83:5). Goddelike toorn sal oor die nasies uitgestort word as gevolg van hulle ongeregverdigde haatveldtog teen die Jode. Die Here sê Hy sal alle nasies teen Jerusalem versamel om met hulle in die gerig te tree omdat hulle Israel onderdruk en verstrooi het (Joël 3:2).

Jodehaat (anti-Semitisme) is ‘n totaal onbybelse houding om in te neem. Dit bring ‘n vloek van God oor diegene wat hulleself daaraan skuldig maak om hierdie antichristelike gees te herberg en te bevorder. God het aan Abraham, die stamvader van Israel, gesê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 12:3). Christus is uit die geslag van Abraham deur Isak, Jakob, Juda en Dawid gebore, “sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus” (Gal. 3:14). Om die volk te verwerp waardeur God aan die wêreld ‘n Verlosser gegee het (vgl. Rom. 9:5), en aan wie Hy ook sy Woord toevertrou het (Rom. 3:1-4), selfs al is daardie volk nog steeds ontrou teenoor God (vgl. Rom. 11:11-12), kom op die verwerping van die God van Israel neer. Hy sal sulke vyande van Hom swaar straf.

Die Here sal die vyande van Israel met blindheid slaan (12:4) en Israel versterk om die vyand te kan oorwin en verdryf. Op daardie dag sal hulle helde wees wat die oorwinning onder die leierskap en met die hulp van die Messias sal behaal (12:6-8).

Israel se geestelike verlossing (12:10–13:9)

Israel se redding by die wederkoms van Christus sal ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees verg, omdat dit sewe jaar ná die wegraping sal plaasvind, waardeur die kerkbedeling formeel beëindig sal word. Die Heilige Gees sal die oorblyfsel in Israel tot bekering en geloof in die Here Jesus as hulle Messias lei. God sê:

“Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadat-Rimmon in die laagte van Megiddo. En die land sal rouklaag by geslagte, elke geslag afsonderlik... In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid” (Sag. 12:10-12; 13:1).

Sagaria vergelyk die dood van die Messias met dié van ‘n enigste seun en ‘n eersgeborene. Die rou vir sulke persone was buitengewoon groot. Met die dood van ‘n enigste seun is die lig van ‘n familie uitgedoof, en met die dood van ‘n eersgeborene is die eer van ‘n familie, die mees geliefde en die eerste paaiement van die Here se seëninge, van hulle af weggeneem. Die rouklag vir die Messias word verder ook met dié vir koning Josia vergelyk. Proff. Walvoord & Zuck (The Bible Knowledge Commentary) sê: “Die toekomstige rouklag van Israel oor haar Messias word in die tweede plek vergelyk met die geween op die dag toe die godvresende koning Josia, die laaste hoop van die wankelende Judese koninkryk, by Haddat-Rimmon in die vlakte van Megiddo, gesneuwel het. Die omvang van die rouklag by hierdie laaste uitstorting van die Heilige Gees kan slegs met die rou vir ‘n buitengewone persoon vergelyk word (12:10), asook met ‘n nasionale ramp wat die volk getref het.”

Eerw. Isaac Jennings (The Imperial Bible Dictionary) sê: “Israel se groot rouklag in die laaste dae, soos deur Sagaria beskryf, wanneer die hele land in rou gedompel sal wees, en elke familie hieraan sal deelneem, dui op die Joodse volk se bekering en die diepte van die berou oor hulle oortredings van die verlede. Onder die oortuiging van die sonde van hulle verwerping van die Messias, sal hulle opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, bitterlik oor Hom ween en reiniging vind in die fontein teen sonde en onreinheid; en so sal die hele Israel gered word (Rom. 11:26). Salig is die wat só treur (Matt. 5:4), want hulle sal vertroos word deur die Here se groot genade vir die uitwissing van al hulle sondes, sodat hulle vrede in hulle siele kan verkry.

“Israel se rouklag en bekering vestig ons aandag opnuut op sonde as die eerste oorsaak van smarte, en ook as die bron van alle lyding wat sterflike mense ervaar. Dit herinner ons ook aan die geseënde doel van die Seun van God se koms na die wêreld om mense van hulle sonde te verlos (Matt. 1:21) en, uiteindelik, ons van alle trane en smarte te verlos. Vanaf die dag toe ons eerste ouers in droefheid uit die Tuin van Eden weg is, tot vandag toe, was die aarde ‘n tranedal. So sal dit ook bly totdat die Here Jesus met sy wederkoms alles nuut sal maak. Dan sal Hy al die trane van hulle oë afvee, en droefheid en geween sal daar nie wees nie (Op. 21:4). Die aarde sal in onoortreflike skoonheid gehul wees, met groter heerlikheid as die Tuin van Eden, en ‘n tuiste van ewigdurende vreugde wees!”

Die land Israel sal ook van alle spore van afgodediens gereinig word: “In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie; en ook die profete en die onreine gees sal Ek uit die land laat wegtrek” (13:2). Afgodediens in die tyd kort voor die wederkoms van Christus sal die aanbidding van die Antichris se beeld in die tempel in Jerusalem insluit (Dan. 9:27; Matt. 24:15; 2 Thess. 2:4; Op. 13:14-15), hoewel ander vorms van afgodediens ook beoefen sal word (Op. 9:20). Saam met die uitwissing van afgodediens sal valse profesieë wat van onrein geeste af kom, ook in die ban gedoen word (13:2-5).

Die ware Profeet en Herder van Israel is die een wat ter wille van ons ongeregtighede geslaan en verwond is (Jes. 53:5): “En as iemand vir hom sê: Watter wonde is daar tussen jou hande? dan sal hy antwoord: So is ek geslaan in die huis van my vriende. Ontwaak, o swaard, teen my herder, en teen die man wat my metgesel is, spreek die HERE van die leërskare. Slaan die herder, sodat die skape verstrooi word” (13:6-7).

Op die dag wanneer Jesus terugkom en sy voete op die Olyfberg neersit, sal die oorblyfsel in die Israel die merke in sy hande sien en Hom vra: “Watter wonde is daar tussen u hande?” Hy sal dan antwoord dat Hy in die huis van sy vriende geslaan is. Die Jode sal weet wie sy vriende, of eie mense, is, naamlik die huis van Israel, omdat hulle almal weet dat hulle Messias ‘n afstammeling van koning Dawid sal wees. Waarom dan die wonde in sy hande? Is Hy nie ‘n magtige Koning wat kon voorkom dat Hy deur enigeen verwond word nie? In ‘n oomblik van groot skok en ontnugtering sal hulle besef wie Hy werklik is – Jesus van Nasaret wat deur hulle vaders verraai en verwerp is. Hulle sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en rouklaag oor Hom, omdat hulle sal besef dat deur hulle eie verwerping van Jesus hulle ook aan sy kruisiging skuldig is.

Hierdie situasie sal herinner aan die dag, lank gelede, toe Josef onverwags as die koning van Egipte aan sy broers geopenbaar is. Josef was ‘n tipe van die Messias: “En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! ... Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom. Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur” (Gen. 45:3-5). Soos Josef, is Jesus ook verraai en vir die prys van ‘n slaaf verkoop, maar God het Hom as Koning van die wêreld gesalf, en sal maak dat sy broers vir redding voor Hom neerbuig. “En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe. Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie” (Gen. 50:18-19). Wanneer Jesus kom, sal sy broers op dieselfde manier reageer en dan vergewe en geestelik herstel word.

Toe die Herder geslaan is, het die kudde verstrooid geraak (13:7). Selfs die Messiaanse Jode het verstrooid geraak toe Jesus gekruisig is (Matt. 26:31), en weer ná sy Hemelvaart (Hand. 8:1). Die ongelowige Jode het ná die val van Jerusalem verstrooid geraak.

Voordat die oorblyfsel in Israel tydens die Messias se tweede koms met Hom versoen sal word, sal hulle erg deur die valse messias vervolg en verstrooi word. Die Here Jesus het teen hierdie tyd gewaarsku toe Hy gesê het dat daar ‘n groot verdrukking sal wees waarin menslike lewe op aarde op die randjie van uitwissing te staan sal kom. Hy het bygevoeg dat indien daardie dae nie verkort word nie, geen mense dit sal oorleef nie (Matt. 24:21-22).

Wat die Jode betref, word ‘n geweldige hoë dodetal deur Sagaria genoem: “En in die ganse land, spreek die HERE – twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly” (13:8). Dit beteken dat ‘n dodetal hoër as die Joodse slagting van Wêreldoorlog II in die donker dae van die groot verdrukking op die 13 miljoen Jode op aarde wag. Wat ‘n skrikwekkende vooruitsig is dit nie vir die ongelowiges in Israel nie! Dieselfde geld vir die nie-Joodse volke.

Mense moet God nie blameer vir die vreeslike oordele wat hulle weens hul onbekeerlike harte oor hulleself bring nie. Alle ongeredde mense stuur op ‘n erger straf as die groot verdrukking af omdat hulle in die ewige poel van vuur gewerp sal word. Die Messias, as die Regter van alle mense, sal aan hulle sê: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25:41). Johannes sê: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Op. 20:15).

Die Jode wat die groot verdrukking oorleef, sal getoets en gered word: “Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God!” (13:9). Hulle is die geseëndes wat die beloofde koninkryk van die Messias sal beërf. Hy sal die wêreld van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem regeer (Hand. 15:16-17), en sy volk sal tye van verkwikking voor sy aangesig hê (Hand. 3:19).

 

Sagaria 14. Die Koning kom Terug

Walvoord & Zuck (The Bible Knowledge Commentary) sê: “Hierdie hoofstuk beeld die triomfantelike terugkeer van Israel se Messias as die goddelike Koning uit. Dit sal die vervulling van eskatologiese Psalms soos Psalms 93, 96, 97 en 99 wees, wat die wêreldwye regering van die Here beskryf. Hierdie regering is uit ander Skrifgedeeltes as die persoonlike regering van die Messias op die troon van Dawid bekend. Sagaria 14 gaan vanaf die aanvanklike plundering van Jerusalem aan die einde van die komende verdrukking voort, beskryf dan die vernietigende oordele oor die nasies tydens die Messias se wederkoms, daarna die vestiging van sy vrederyk op aarde, en eindig by ‘n beskrywing van aanbidding in Jerusalem gedurende die millennium. Die feit dat hierdie gebeurtenisse nog nie plaasgevind het nie, dui op die premillennialistiese koms van Christus, dit is sy koms voor die millennium.”

Die Koning keer in krag en heerlikheid terug (14:1-7,12-15)

Die eindtydse aard van gebeure wat in hierdie hoofstuk beskryf word, word duidelik bevestig deur die feit dat hulle in “die dag van die Here” sal plaasvind (14:1). Jerusalem sal die fokuspunt vir apokaliptiese gebeure wees: nie alleen sal die stad en die land van Israel ‘n slagveld vir ‘n konfrontasie tussen die koninkryke van God en Satan wees nie, maar die Olyfberg in die stad sal die toetreepunt van die Koning van konings tot die wêreld wees ná sy fisiese afwesigheid van omtrent twee millennia. Sy koms sal die begin van Jerusalem se verheffing tot die status van wêreldhoofstad wees. Dit sal die roemryke Stad van die Groot Koning wees. Voordat die Messias formeel die dispensasie van God se geopenbaarde koninkryk op aarde deur die herstel van die troon van Dawid sal inlui, sal Hy eers sy vyande vernietig. Hulle sal onder die leierskap van die Antichris en die valse profeet in en om Jerusalem gemonster wees, en saam met hulle vernietiging sal hulle antichristelike nuwe wêreldorde ook beëindig word. Die Messias sal ook vir Satan laat opsluit, wat die onsigbare, geestelike hoof van die Antichris se wêreldryk sal wees. Die Here sê:

“Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge – want die dal van die berge sal loop tot by Asal – en julle vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U! En in dié dag sal daar geen lig wees nie... maar teen die aand sal dit lig wees... En dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die HERE onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander. En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van die nasies rondom sal ingesamel word” (14:2-7,12-14).

Die Here sê dat Hy alle nasies sal versamel om teen Jerusalem te veg. Hy sal bloot die multinasionale mag uit alle nasies toelaat om teen Jerusalem op te trek omdat hulle reeds, onder die aanstigting van Satan, sou besluit het om Israel én hulle komende Messias te verdelg. ‘n ander Joodse profeet, Johannes, het gesê: “En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God… En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon" (Op. 16:13-16).

Só ‘n groot oorlogspoging deur al die nasies van die wêreld is nie nodig om die klein volkie van Israel te vernietig nie. Die tyd wanneer die nasies van die wêreld hulle magte vir hierdie oorlog sal mobiliseer, sal baie naby aan die einde van die verdrukking wees. Die bevolking van Israel sal dan reeds as gevolg van hewige vervolging drasties verminder wees, terwyl die oorlewende Jode hulle verbond met die valse messias dan al sou verbreek het, en as gevolg daarvan ontwapen en uit Jerusalem verdryf sou wees (vgl. Matt. 24:15-22; Op. 12:6,13-17). Hulle sal vir niemand enige militêre bedreiging inhou nie; waarom dan al die voorbereidings vir die slag van Armageddon in Israel, en spesifiek in en rondom Jerusalem?

Johannes het die rede vir die demoniese aanhitsing van die nasies aangedui. Die konings van die wêreld, wat deel van die Antichris se wêreldryk sal vorm, sal meegedeel word dat Israel se Messias met ‘n groot leërmag van die hemel af sal kom om Israel te red, en dan die wêreld deur hulle en vanuit Jerusalem te regeer. Die vyandelike magte sal Jerusalem beleër en die Messias daar inwag. Johannes sê: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër” (Op. 19:19). Die belangrikste teiken sal Jesus, die ware Christus, wees.

Dit sal ‘n slegte dag vir die multinasionale mag wees, omdat hulle gedood sal word met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit (Op. 19:21). Hy sal slegs ‘n enkele woord hoef te spreek wat tot hulle skielike vernietiging sal lei. Sagaria sê dat die vlees van die vyandige troepe sal wegteer terwyl hulle nog op hul voete staan (14:12). “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:31). Die Antichris en die valse profeet sal lewendig in die poel van vuur gewerp word, terwyl Satan gebind en in ‘n bodemlose put gegooi sal word (Op. 19:20; 20:1-3).

Gedurende die dramatiese gebeurtenis van die Messias se koms, wanneer groot aardbewings oor die hele wêreld sal voorkom en die Olyfberg in twee dele sal split, sal ‘n opregte en heelhartige versoening tussen die oorblyfsel in Israel en hulle eens verwerpte Messias, Jesus, plaasvind. Die Jode wat in die middel van die verdrukking na ‘n plek in die woestyn gevlug het, sal na die Olyfberg terugkeer om die ware Messias daar te ontmoet. Hulle sal dit doen ten spyte van die lewensgevaar wat die groot monstering van vyandelike magte in en om Jerusalem, asook op ander plekke in die Midde-Ooste, sal inhou. Volgens die profesieë in Daniël 12 sal hulle weet dat 3½ jaar sal verloop vanaf die dag wanneer die valse messias homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar, tot op die dag wanneer die ware Messias sy verskyning sal maak (Dan. 12:11).

Ten spyte van hulle benoudheid as gevolg van die groot oorlog van Armageddon wat aan die gang sal wees, sal hulle nogtans na Jerusalem optrek. In ‘n sekere stadium sal hulle byna moed opgee, dink dat hulle hoop verlore is en dat hulle almal doodgemaak sal word (vgl. Eseg. 37:11). Op die kritieke oomblik sal die Messias egter kom. Wanneer sy voete die Olyfberg raak, sal die berg in twee split en die duisternis van God se oordele oor die vyande toesak. Dit sal weer wees soos die dag toe die Messias gekruisig is en Hy God se oordeel oor sonde namens ons gedra het. Dit het in die middel van die dag donker geword, maar teen drie-uur die middag toe Jesus klaar sy lewe afgelê het, het die lig weer deurgebreek (Matt. 27:45).

Op die dag van sy wederkoms sal dit ook in die middel van die dag donker word wanneer God se oordele oor sy vyande uitgestort word. In daardie tyd van groot verwarring onder die vyand sal die voortvlugtende Jode skuiling vind in die dal wat in die oopgeskeurde Olyfberg gevorm sal word. Daar, aan die voete van die Messias, sal hulle veilig wees. Sagaria sê: “In dié dag sal daar geen lig wees nie... maar teen die aand sal dit lig word” (14:6-7). Wanneer die lig teen laat namiddag weer helder deurbreek, sal die Jode opsien na Hom wat op die regte oomblik tot hulle redding gekom het. Hulle sal nie net fisies uit die greep van die vyand gered word nie, maar ook die geestelike redding van die Messias in hulle harte ervaar.

Die Messias se vrederyk word ingestel (14:8-11,16-21)

“En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde... Jerusalem self sal hoog wees... En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en Jerusalem sal in veiligheid woon” (14:8-11).

Die hele landskap in Israel sal verander word, waarskynlik as gevolg van groot aardbewings (vgl. Eseg. 38:19-20; Op. 16:18-19). In die millennium sal Jerusalem hoog geleë wees (14:10). Die berg van die huis van die Here sal vasstaan op die top van die berge (Jes. 2:2). Lewende waters sal uit Jerusalem na die Oostelike See (die Dooie See) en na die Westelike See (die Middellandse See) vloei. Dit sal in die somer én in die winter so wees (14:8), wat daarop dui dat die dag van Here oor baie jare sal strek en die hele vrederyk van die Messias gedurende die millennium sal insluit.

Die Messias sal Koning oor die hele aarde wees (14:9). Satan sal in ‘n bodemlose put opgesluit word, wat verseël sal word sodat hy die nasies nie meer kan verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie (Op. 20:3). As gevolg hiervan sal die nasies in vrede leef, hulle swaarde in pikke smee en alle militêre opleiding staak (vgl. Jes. 2:2-4; Jer. 3:17). Hulle sal gereeld na Jerusalem toe kom om die Here te aanbid (Sag. 8:20-22).

Een só ‘n geleentheid sal die jaarlikse loofhuttefees wees: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier” (14:16). Hoewel die duiwel gebind sal wees en nie by magte om die nasies te verlei nie, sal alle mense steeds met ‘n gevalle, vleeslike natuur gebore word en gevolglik weergebore moet word om deelgenote van die goddelike natuur te kan wees. As gevolg van hulle menslike natuur sal hulle dikwels hul pligte versuim en as gevolg daarvan gedissiplineer moet word: “En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie” (14:17).

Die kenmerk van die millennium sal “Heilig aan die HERE” wees (14:20-21). Heiligheid sal in die openbare lewe geld, en selfs op die klokke van die perde geskryf staan. Heiligheid sal op die godsdienstige terrein geld, omdat die potte in die herboude tempel (Eseg. 40–43) soos die offerkomme by die altaar sal wees. Heiligheid sal ook in alle huishoudings uitgeleef word omdat die kookgerei daarin heilig aan die Here sal wees. Daar sal nie meer ‘n verskil tussen heilig en sekulêr wees nie, omdat mense in hulle hele lewenswandel heilig sal wees (vgl. 1 Pet. 1:15). In ooreenstemming met die reël van absolute heiligheid sal daar geen Kanaäniet in die huis van die Here kom nie (14:22). Die Kanaäniete was afgodedienaars en hulle godsdiensbeoefening was simbolies van alles wat seremonieel onrein en verwerplik was (vgl. Ex. 34:11-15). In die tempel van die millennium sal daar nie verontreiniging van hierdie aard voorkom nie, want die Here sal in elk geval al die afgode uit die land verdelg (13:2).

Sagaria se profetiese boek het met ‘n oproep tot bekering begin (1:2-6) en word afgesluit met die versekering dat alles en almal heilig aan die Here sal wees (14:20-21). Omdat Hy die Almagtige God en die Heilige van Israel is, sal Hy heiligheid dwarsdeur sy duisendjarige vrederyk bevestig. Almal wat aan Hom behoort, moet volkome geheilig word voordat hulle voor die Here se aangesig kan verskyn. “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14).

Die Messias is Here

Die mees verhewe openbaring in die boek Sagaria is dat die Messias van Israel HERE genoem word – die ewige en selfbestaande EK IS. In sy verskyning voor sy menswording word Hy as die Engel van die Here beskryf, in sy eerste koms na Israel as die verwerpte Koning en Herder wat as ‘n nederige Persoon gekom het om vir die sonde van alle mense deurboor (gekruisig) te word, maar in die profetiese toneel van sy wederkoms word Hy ten volle as die HERE God [Jahweh Elohim] geopenbaar: “Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U!” (14:5). Hy is “die Koning, die HERE van die leërskare,” wat tydens die millennium deur alle nasies in Jerusalem aanbid sal word (14:16). Sagaria sê ook: “En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een” (14:9).

Die begrip “een” wat ook in Deuteronomium 6:4 gebruik word om die Persoon van die Here (Yahweh) ons God (Elohim) te beskryf, is echad in Hebreeus. Dit verwys na ‘n saamgestelde eenheid en nie ‘n absolute eenheid nie, m.a.w. drie Persone wat saam een is. Die Drie-enige God kan inderdaad sê: “Laat Ons mense maak na ons beeld...” en dan: “...man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen. 1:26-27). Al drie Persone in die Godheid kan as Here (Jahweh) en God (Elohim) aangespreek word. Die Messias, die Heilige van Israel, is duidelik die Here God wat die aarde geskape het. Johannes beskryf die pre-geïnkarneerde Christus as die Woord (Logos) wat die Skepper-God is: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God... Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense... Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom [Israel] gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo... En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:1-4,10-14).

Hy is nie slegs Jesus van Nasaret wat sy begin in Betlehem gehad het waar Hy as die Seun van die mens en Seun van God gebore is nie – Hy is die tydlose en selfbestaande God wat voor die skepping al daar was: “Hy is die Beeld van die onsienlike God... want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemel en op die aarde is... Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand... Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 1:15-17; 2:9).

Toe die Messias die eerste keer na Israel toe is, het baie min mense besef wie Hy werklik is. Sy dissipels het in verbasing uitgeroep: “Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!” (Mark. 4:41). Hulle het nie besef dat Hy die wind en die see gemaak het nie. Aan die agnostiese Jode het Hy gesê: “Voordat Abraham was, Is Ek” (Joh. 8:58), en ook: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Toe Hy dit gesê het, het die Jode klippe opgetel om Hom te stenig. Toe Hy aan hulle gevra het waarom hulle dit doen, het hulle gesê: “...oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak” (Joh. 10:31-33). Die Jode het hulle eie lewe in gevaar gestel omdat hulle die Messias nie as Here en God wou aanvaar nie. Hy het duidelik die gevolge van die ewige dood vir hulle uitgespel indien hulle Hom nie as die Here, die ewige Ek Is, aanvaar nie: “As julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24). Hy is “die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20).

Net ‘n klein oorblyfsel in Israel sal besef wie die Messias werklik is, maar ook slegs nadat hulle erg deur die valse messias vervolg is, met wie hulle verkeerdelik ‘n verbond gesluit het. Frances Havergal pleit by alle ongeredde Jode én nie-Jode: “Waarom wil jy sonder Hom probeer leef? Is Hy nie vriendelik en liefdevol nie? Het Hy nie gesterf om jou te red nie, en is Hy nie alles wat jy nodig het nie?” Die Here Jesus het die vaste versekering oor redding aan almal gegee wat in Hom glo: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe” (Joh. 6:47).

Dit is hierdie groot Verlosser oor wie Sagaria met sy volk gepraat het. Israel het Hom ten spyte hiervan verwerp toe Hy die eerste keer gekom het. Net voor sy Hemelvaart van die Olyfberg af, het die Messias die opdrag aan sy dissipels gegee om sy liefde en reddende genade aan alle volke op aarde te verkondig (Matt. 28:19). Wanneer Hy weer kom, sal die hele Israel gered word. Dan sal die Messias en sy heiliges die wêreld in geregtigheid regeer. Al die volke sal die Messias aanbid en sy volk, Israel, eer. Hulle sal aan die Messiaanse Jode sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23).