Print

Israel en die Messiaanse Koninkryk

Written by Prof Johan Malan.

‘n Bondige Kommentaar oor die Boek Jesaja

Voorwoord

Jesaja is een van die bekendste profete in die Ou Testament. Sy boek word intensief deur ortodokse en Messiaanse Jode gelees, asook deur nie-Joodse gelowiges, en dikwels daaruit aangehaal. Die profesieë van Jesaja is van besondere betekenis in die eindtyd gedurende die eerste fase van Israel se herstel uit hulle internasionale verstrooiing, kort voor die koms van die Messias en die openbaring in heerlikheid van God se koninkryk op aarde.

Proff. John Walvoord en Roy Zuck beklemtoon die groot betekenis van hierdie boek soos volg: “Jesaja het meer as enige ander profeet oor die groot koninkryk gepraat waarvan Israel ná die wederkoms van die Messias deel sal word. Jesaja het die dieptes van Israel se sonde en die hoogtes van God se heerlikheid in sy komende koninkryk bespreek” (Bible Knowledge Commentary, bl. 1029).

Baie van die nie-Joodse gelowiges neem egter nie die groot aantal profesieë wat verwys na die toekomstige Messiaanse staat van Israel onder die persoonlike regering van die Messias ernstig op nie. Hulle vertolk Bybelse profesieë op ‘n nie-letterlike wyse deur dit te vergeestelik en op die kerkdispensasie toe te pas. Hierdie gebruik het aanleiding gegee tot die koninkryk-nou teologie (dominionisme) waarin die integriteit van God se beloftes aangetas word deur die volle implikasies daarvan te ignoreer. Die volgende is sommige van die foutiewe aannames van dominioniste, in terme waarvan koorsagtige pogings aangewend word om die huidige wêreld en al sy instellings te hervorm en te rekonstrueer:

  • Hulle ontken die vestiging van ‘n toekomstige koninkryk op aarde ná die koms van die Messias as Koning van die konings. In die plek daarvan probeer hulle om nóú konings te word in ‘n mensgemaakte koninkryk wat na verwagting gestalte sal aanneem uit die oorname van alle politieke en godsdienstige gesag deur die universele kerk van God, wat sy spesiale verteenwoordiger op aarde is.
  • Hulle ontken die belangrikheid van Israel se fisiese, staatkundige en geestelike herstel in die land van hulle vaders. Israel word deur die kerk vervang en die geprofeteerde herstel van Israel as ‘n wêreldwye golf van herlewings verklaar waarin miljoene mense uit alle uithoeke van die aarde tot die koninkryk van God sal toetree deur by die Christelike kerk aan te sluit.
  • Hulle verwag ‘n groot uitstorting van die Heilige Gees in die laaste dae om die kerk vir die uitvoering van sy mandaat te bemagtig om God se koninkryk op aarde te vestig. Hulle sien die opkoms van hierdie koninkryk as die enigste suksesvolle teenvoeter vir die huidige proses van verval weg van Bybelse standaarde van moraliteit en ware aanbidding af. Hulle verswyg alle profesieë oor goddelike oordele oor ‘n bose wêreld en waarsku die mensdom nie teen die spoedige openbaring van die Antichris wat ná die wegraping oor ‘n goddelose wêreld sal regeer nie.

Dominioniste bevorder onwetend die multigodsdienstige nuwe wêreldorde van die Antichris omdat hulle ekumenies-georiënteerd is met die oog op die opkoms van ‘n wêreldkerk. Hulle globalistiese mikpunte maak van hulle ‘n maklike teiken vir alle vorms van misleiding wat uit kompromieë tussen verskillende godsdienste en ideologieë voortspruit. Die gees van eenheid ten alle koste kom nie van die Heilige Gees af nie, maar het sy oorsprong by die “engel van die lig” wat sy “gees van dwaling” uitstuur om te mislei (2 Kor. 11:14; 1 Joh. 4:6).

Teoloë oral, alle Christen-gelowiges, Jode van verskillende oortuigings, sowel as lede van alle ander gelowe, sal daarby baat vind om ‘n openhartige en objektiewe studie van die boek Jesaja te doen. Die merkwaardige wyse waarop profesieë vervul is aangaande die eerste koms van die Messias, Israel se internasionale verstrooiing weens ongeloof, asook hulle huidige herstel uit alle nasies, lewer sterk getuienis oor die letterlike vervulling van Bybelse profesieë. Dit laat aan ons geen keuse nie as om die verdere herstel van Israel te verwag, die koms van die verskriklike dag van die Here wanneer sy toorn oor die goddeloses uitgestort sal word, die wederkoms van die Messias in mag en majesteit, die redding van ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies, asook die vestiging van God se koninkryk op aarde met Jerusalem as hoofstad.

Die lydende Messias wat meer as 2000 jaar gelede as ‘n nederige Kneg in Betlehem gebore is, sal spoedig as die regerende Messias kom om die koninkryk van die hemel op aarde te openbaar. Die geredde oorblyfsel van Israel sal ‘n groot rol in hierdie koninkryk speel, sowel as die opgewekte en verheerlikte lede van die kerk van Christus onder alle nasies. Dit sal die groot hoogtepunt van Jesaja se profesieë wees waardeur ‘n bedeling van duursame vrede en harmonie onder die nasies ingelui sal word, asook groot seëninge in die natuur. Goddelose mense het alle rede om die komende dag van die Here te vrees, maar die regverdiges sal die aarde beërf en hulle in die sigbare teenwoordigheid van die Heilige van Israel verbly.

Het u ‘n suiwer Bybelse toekomsverwagting, of is u dalk betower deur die koninkryksvisie van mense wat hulleself aan die skepping van ‘n koninkryk toegewy het wat in baie opsigte verskil van die koninkryk wat in die Bybel aan ons beloof word?

Johan Malan

Opsomming

God openbaar deur die profeet Jesaja sy plan vir ‘n Israel- en Jerusalem-gebaseerde koninkryk op aarde waaroor die Messias in geregtigheid sal regeer. Die komende tyd van goddelike intervensie in die lotgevalle van die mensdom word as “die dag van die Here” beskryf. Hierdie apokaliptiese tydperk sal met groot oordele gepaard gaan om Israel én die hele wêreld van hulle sonde te suiwer. Die oorlewende oorblyfsel van Israel en die nasies sal die duisendjarige vrederyk binnegaan waarin die Messias van die herstelde troon van Dawid af sal regeer. Jerusalem sal tot ‘n lof op aarde verhef word en die geestelik herstelde Israel sal die Messias se spesiale getuies onder die nasies wees. Die gevorderde stadium van Israel se eindtydse herstel is ‘n aanduiding van die nabyheid van die dag van die Here, of die verdrukking, wanneer sy toorn oor die goddeloses uitgestort sal word. Hierdie profetiese scenario maak dit onmoontlik dat daar tydens die kerkbedeling, voor die volle herstel van Israel en die oordele van die dag van die Here, enige sigbare openbaring van die koninkryk van die hemel op aarde kan wees. Die uitdagende houding van miljoene onbekeerlike sondaars sal eers op ‘n beslissende wyse beëindig moet word voordat geregtigheid op aarde kan heers.

Inleiding

Jesaja is ‘n baie belangrike profeet vir Israel én die nie-Joodse nasies. Verskeie sleutelgedeeltes in Jesaja sal ook uit die oogpunt van ooreenstemmende profesieë in ander Bybelboeke beoordeel en vertolk word. Sorg sal gedra word om die dispensasionele verband waarin hierdie profesieë vervul word, korrek aan te toon. Sommige van hulle het betrekking op een of meer van die volgende dispensasies, en moet altyd binne hierdie raamwerk verklaar word:

1.    Israel in die Ou Testament, verwysend na die bedeling van die wet wat ná die volk se uittog uit Egipte begin het.

2.    Die kerkbedeling ná die eerste koms en verwerping van die Messias, aan die einde waarvan Israel in hulle land herstel word.

3.    Die komende verdrukking onder die regering van die Antichris. Dit sal ook weens Israel se nasionale ongeloof die tyd van benoudheid vir Jakob wees.

4.    Die dispensasie van die Messias se duisendjarige vrederyk (die Millennium) wat ‘n aanvang sal neem ná sy wederkoms op die Olyfberg in Jerusalem.

5.    Daar is ook ‘n profetiese verwysing na die nuwe hemel en aarde wat ná die Millennium geskep sal word.

Hierdie boekie bied nie ‘n volledige eksegese van al Jesaja se profesieë aan nie, maar beklemtoon net sekere sleutelgedeeltes. Die belangrikste doel hiermee is om God te verheerlik en die betroubaarheid van sy Woord te bevestig deur op die letterlike vervulling van Ou Testamentiese profesieë te wys. Baie lig word op profesieë gewerp wat in die nabye toekoms voor, gedurende, en ná die koms van die Messias vervul sal word. Die bestudering van Jesaja se profesieë is ook daarop gerig om die huidige verwarring op te klaar wat deur die koninkryk-nou teologie (dominionisme) geskep word. Hierdie benadering is die gevolg van pogings om Israel as volk te beroof van alle profesieë oor toekomstige seëninge gedurende die Millennium en dit dan verkeerdelik op die kerkbedeling toe te pas. Dié misleidende gebruik staan as die “vervangingsteologie” bekend en is daarop ingestel om Israel deur die kerk te vervang.

Die ongeregverdigde en onbybelse weglating van Israel uit God se eindtydse program bied aan vervangingsteoloë die verskoning om al die beloftes oor Israel se herstel en seëninge gedurende die Messiasryk na die kerkbedeling oor te plaas. Hulle het reeds ‘n wêreldwye transformasiebeweging van stapel gestuur om gemeenskappe volgens Christelike beginsels te rekonstrueer, en ook om deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering te poog om die aarde van Satan en sy demone se invloed te bevry. Dit sal volgens hulle eie verwagtings aan hulle die geleentheid bied om nog voor Christus se koms as konings te regeer, groot tekens en wonders te doen en alle gedagtes oor dreigende oordele wat met die komende verdrukking in verband staan, te verban. Hulle is só in positiewe denke vasgevang dat hulle geen erkenning aan God se oordele gee nie.

Teologiese temas

Die teologiese temas van die boek Jesaja het meesal op Israel se kontemporêre en profetiese posisie betrekking, op God se oordele in die dag van die Here oor Israel en die nasies weens hulle volgehoue sondigheid, God se wêreldwye reddingswerk deur die beloofde Messias, die geestelike herstel van Israel en ‘n oorblyfsel van die nasies aan die begin van die Millennium, asook toekomstige seëninge ná die Millennium wanneer God se heerlikheid in die ganse heelal geopenbaar sal word.

Die boek is nie chronologies geskryf nie, aangesien dit met tussenposes verwys na toekomstige seëninge en oordele as die langtermyngevolge van Israel se geestelike toestand op enige gegewe oomblik. ‘n Donker toekoms wag op alle sondaars wat God se gesag misken en sy aanbod van vergifnis minag, maar die regverdiges sal groot seëninge in die vrederyk beërf.

Die vergelding van God

In hulle Bible Knowledge Commentary (bl. 1033-1034) sê proff. John F. Walvoord en Roy B. Zuck: “Die Here het sy verbondsvolk aangekla oor hulle verbreking van die Mosaïese verbond, sy volkome vergifnis aan diegene gebied wat hulle sou bekeer, maar oordele aangekondig oor almal wat aanhou om teen Hom te rebelleer. In 6:9-13 het God vir Jesaja daarop gewys dat die grootste deel van die volk hulle nie sou bekeer nie...

“In die eerste gedeelte van sy boek het Jesaja baie oor die oordele geskryf wat oor Juda sou kom as gevolg van hulle versuim om die Mosaïese verbond te eerbiedig. God se straf sou aan die volk toon dat Hy sy Woord vervul. Hierdie afdeling bespreek ook oordele wat oor die hele wêreld sal kom (hfst. 13–24). Alle nasies van die wêreld staan skuldig voor die Heilige van Israel.

“In die afdeling oor oordele beklemtoon Jesaja ook die seëninge wat oor Israel sal kom omdat hulle hul verbond met die Here sal hou. In die Here se aanklag teen Juda (hfst. 1–6) verwys Hy in 1:24-31 na die volk se herstel, 4:2-6 praat van ‘n oorblyfsel van oorlewendes, en 6:13 verwys na ‘n ‘heilige geslag’ of oorblyfsel. Die profesieë oor verlossing (hfst. 7–12) het op die volk se verlossing van hul vyande betrekking. In hierdie tyd sal God se wonderlike koninkryk van die Millennium verrys (hfst. 11; vgl. Op. 20:16) en die verloste volk sal gesange van bevryding sing (hfst. 12).

“In hoofstukke 13–24, waarin God se oordele oor die nasies beskryf word, skryf die profeet dat Israel in hulle land herstel sal word en oor die nasies sal regeer wat hulle onderdruk het (14:1-2)... Die aanbidding van die ware God sal na vrede op aarde lei (19:19-25)...

“Jesaja maak in mooi beeldende taal die punt dat sonde eers uit Israel én die hele wêreld uitgeroei moet word. Uiteindelik, in die Millennium, sal geregtigheid afgedwing word en die volk sal in voorspoed en vrede leef as gevolg van hulle hernude verhouding met die Here.” (Einde van aanhaling).

Dit is duidelik dat God se eindtydse oordele oor die geestelik verblinde Israel en die goddelose nasies nog nie begin het nie. Hierdie toekomstige periode word as “die tyd van benoudheid vir Jakob” beskryf (Jer. 30:7), en ook as “die dag van die Here... verskriklik, met grimmigheid en toorngloed” (Jes. 13:9). Israel word hoofsaaklik in ongeloof in hulle land herstel om daar in benoudheid gebring en gereinig te word (vgl. Eseg. 22:19-22). Die bose nasies sal op dieselfde wyse aan ‘n tyd van geweldige beproewing en verdrukking onderwerp word (Op. 3:10). Slegs die ware gelowiges sal die naderende tyd van die wêreldwye uitstorting van goddelike toorn ontsnap, omdat die Here nie sy gehoorsame kinders oordeel en straf nie (Luk. 21:36; 1 Thess. 1:10).

Die einde van die kerkbedeling word nie deur koninkrykshervormings op ‘n wêreldwye skaal gekenmerk nie, maar deur ‘n groot afval wat die weg berei vir die openbaring van die valse christus en sy misleidende nuwe wêreldorde.

Ware en valse godsdiens

Wat ook al met Israel of die nasies gebeur, word deur hulle verhouding met God bepaal – hulle is óf die voorwerpe van sy seën óf die voorwerpe van sy toorn. In die heel eerste hoofstuk van Jesaja maak God melding van die baie belangrike aspek van die handhawing van die regte verhouding met Hom deur in die lig te wandel en alle sonde te bely en te laat staan. Die meeste Israeliete het egter met hul bose weë volhard en daardeur aktief teen God gerebelleer (1:2-4). Hulle het slegs ‘n uiterlike gedaante van godsaligheid in stand gehou deur sekere wette in verband met sabbatte, offers en feeste te eerbiedig. Godsdiens word ‘n valse en misleidende gebruik genoem wanneer dit nie met ‘n aktiewe verhouding met God gepaard gaan nie, want dan lei dit nie na ‘n rein hart en persoonlike heiligheid nie (29:13).

God verafsku die uiterlike godsdienstige aktiwiteite van onbekeerlike sondaars en luister nie eers na hulle gebede nie (1:10-15). Ware bekering is die enigste oplossing vir hierdie wydverspreide probleem: “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg... Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word” (1:16-20). Dit is in God se hande om die lotgevalle van ‘n persoon of ‘n volk ten goede te verander. Al wat Hy van mense vra, is opregte bekering en getrouheid.

Die hewigheid van God se finale oordele, sowel as die wêreldwye manifestasie van sy geregtigheid en seëninge, word só duidelik beskryf dat dit onmoontlik is om die finale vervulling daarvan te beperk tot Israel se onderwerping deur Nebukadnésar, hulle Babiloniese ballingskap en hulle herstel ná die ballingskap. Hierdie is duidelik eindtydse gebeurtenisse wat slegs vervul kan word nadat die verdrukking aangebreek het, die Messias gekom het en deur die oorblyfsel van Israel en die nasies óf aanvaar óf verwerp is. Die gedeeltelike (of voorlopige) vervulling van goddelike oordele in die Ou Testament skakel nooit die finale vervulling daarvan in die tydperk ná Israel se herstel uit hulle internasionale ballingskap uit  nie.

Oordeel kom voor die uitstorting van seën oor die oorblyfsel van die getroues op aarde tydens die Millennium. Israel en die nasies word steeds grootliks deur boosheid gekenmerk en stuur gevolglik op die eindtydse oordele van die dag van die Here af. God se geregtigheid is 2000 jaar gelede deur die koms van die Messias aan die mensdom gebied, en dit is gevolg deur die verkondiging van die evangelie aan alle nasies.

Ons is nou naby aan die tyd wanneer die oordeel moet begin by die huis van God (1 Pet. 4:17). Ná die wegraping sal alle gelowiges voor die regterstoel van Christus verskyn (2 Kor. 5:10). In daardie tyd sal die Antichris op aarde geopenbaar word en vrye teuels aan ‘n kultuur van sonde onder die miljoene misleide en geestelik dooie mense gee. Daardie tyd sal ook deur die Lam se oordele oor die bose mensdom gekenmerk word (Op. 6:15-17).

Hierdie tyd van geweldige oordele sal deur die wederkoms van die Messias as Koning van die konings beëindig word (Sag. 14:4-5). Hy sal die troon van Dawid in Jerusalem herstel (Hand. 15:16-17) en sy duisendjarige ryk van vrede en geregtigheid instel (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17). Die koninkryk van die hemel sal slegs op aarde geopenbaar word nadat die Messias-Koning sy voete op die Olyfberg gesit, sy vyande geoordeel, die Antichris en valse profeet vernietig, Satan en sy demone gebind, die oorblyfsel van Israel gered en sy koninkryk tot die voordeel van alle mense ingestel het. Die natuurlike skepping sal in hierdie tyd ook geseën word (Jes. 11:6-9; 55:12-13).

Koninkryk-nou teologie is heeltemal in stryd met die volgorde van Bybelse gebeure, omdat dit die idee van ‘n fisiese koninkryk tydens die kerkbedeling voor die wederkoms van Christus probeer bevorder. Dit is ‘n valse godsdienstige leerstelling omdat dit die groot aantal Bybelse profesieë ignoreer waardeur ons gewaarsku word teen ‘n groot geestelike verval in die eindtyd, gevolg deur die wegraping van die regverdiges en die daaropvolgende oordeel van die goddeloses tydens die verdrukking.

Hoe kan die koninkryk van die hemel op aarde geopenbaar word wanneer die duiwel steeds soos ‘n brullende leeu rondloop (1 Pet. 5:8), die Antichris en valse profeet nog hulle verskyning moet maak om die aarde te regeer, die groot meerderheid mense steeds die duisternis liewer het as die lig (Joh. 3:19), en die konings van die aarde “saam raad hou teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps. 2:2-3)? Gedurende hierdie bedeling is die ware Christene vreemdelinge en bywoners in ‘n donker wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Pet. 2:11; 1 Joh. 5:19). Slegs Christus kan die invloed en dominansie van “die god van hierdie wêreld” (2 Kor. 4:4) beëindig wanneer Hy kom. Voordat Hy kom, kan slegs individue van die binding deur Satan en sonde verlos word – nie stede, nasies en die hele wêreld nie. Ons het nooit ‘n mandaat ontvang om Satan gedurende hierdie bedeling uit die wêreld te verban en volle beheer oor die nasies en hulle regerings te neem nie. Ons moet die wêreld evangeliseer, nie oorneem nie.

In die lig van hierdie werklikhede is dit in ons eie belang om konsekwent tussen die lydende en regerende Messias te onderskei, soos wat duidelik deur Jesaja en ander profete gedoen word. Tydens “die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4) is ons as Christene navolgers van die lydende Messias, die Een wat steeds deur die meerderheid mense verwerp word. Ná sy wederkoms sal ons saam met Hom op aarde regeer – nie nou al nie (vgl. Op. 5:9-10).

Jesaja beskryf duidelik die koms van die Messias in twee hoedanighede – eerstens as die lydende Kneg wat in ons plek veroordeel moes word, en tweedens as die regerende Koning.

Geboorte van die Messias

“Daarom sal die Here self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en Hom Emmanuel noem” (Jes. 7:14). Dit is ‘n baie duidelike stelling oor die maagdelike geboorte en godheid van die Messias, wat ook in Mattheus 1:23 aangehaal word. Jesus is op ‘n wonderbaarlike manier deur die Heilige Gees verwek en as gevolg daarvan ook “Seun van God” genoem (Luk. 1:35). Hy was nie net in sy menslike natuur die Seun van God nie, maar ook God self wat as mens onder sy volk gewandel het. Hy is heeltemal tereg “Emmanuel” genoem, wat in Mattheus 1:23 as “God met ons” vertaal word. Die Here Jesus het later ook sy posisie as God bevestig toe Hy gesê het: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30).

Hoe absoluut verkeerd is dié moderne teoloë, predikers en hulle volgelinge nie wat die maagdelike geboorte en godheid van Jesus Christus ontken! Wanneer hulle dit doen, verkondig hulle ‘n ander evangelie en ‘n ander Jesus (vgl. Gal. 1:6-8; 2 Kor. 11:3-4) waardeur hulle naïewe mense mislei en sodoende die weg vir die openbaring en algemene aanvaarding van die Antichris as universele messias voorberei (Op. 13:3-4).

Die Seun van die mens is ook Here en God

Jesaja sê: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk” (Jes. 9:5-6). Paulus het die vervulling van hierdie profesie bevestig toe hy gesê het dat die Messias uit Israel gebore is – “Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid!” (Rom. 9:4-5).

Dit is ‘n baie groot en goddelike waarheid om te besef dat die “Seun” wat in die koninklike familie van Israel gebore is, nie alleen bestem was om hulle Koning op die troon van Dawid te wees nie, maar Hy word ook as die “Sterke God” en “Ewige Vader” beskryf. Sagaria sê van Hom: “Die Here my God [Jahweh my Elohim] sal kom... En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:5,9). Hy is die grote God wat een met die Vader is! Johannes noem Hom “die Woord” en sê: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:1-3). Hy is God wat van alle ewigheid af bestaan. Dit is waarom Jesus aan die Jode gesê het: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). “As julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24). Hy is die ewige EK IS.

Jesus is ook die Skepper van die wêreld (vgl. Joh. 1:2-3; Kol. 1:15-17). Hy is dus, in ‘n skeppende en nie in ‘n verwekkende sin nie, die Ewige Vader van die skepping. In die volheid van die tyd het Hy “vlees geword en onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:14).

Redder en Koning

Hoewel Jesaja nie spesifiek oor die kerkbedeling geskryf het nie, het hy duidelik daarop gesinspeel toe hy na die redding van die nie-Joodse nasies verwys het: “[Die Here] het gesê: Dit is te gering dat U [die Messias] my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (49:6). Hy is die Verlosser van die hele wêreld.

Hierdie Skrifgedeelte was die belangrike rede wat Paulus en Barnabas gegee het waarom hulle die kerk van Jesus Christus onder die heidene gaan vestig het. Hulle het aan hul vyandige Joodse tydgenote gesê: “Dit was noodsaaklik dat die Woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie – kyk, ons wend ons tot die heidene. Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde” (Hand. 13:46-47).

Jesaja het in sy profesieë onderskeid gemaak tussen die lydende en die regerende Messias. Uit hierdie profesieë is dit duidelik dat Hy eers as die lydende Messias moes kom wat deur sy eie mense verwerp sou word, en dan moes sterf om die losprys vir die sonde van die hele wêreld te betaal. In ‘n later stadium sal Hy as die regerende Messias kom wat die Koning van die konings op die troon van Dawid sal wees. Daar is verskeie profesieë wat na hierdie twee hoedanighede van die Messias verwys.

Die lydende Messias

Die volgende profesieë verwys na die eerste koms van die Messias, asook sy werk van verlossing wat daarop gerig is om verlore mense met God te versoen. Lede van Israel en die nasies het ‘n vrye keuse om die aanbod van verlossing te aanvaar of te verwerp. Die negatiewe reaksie van die meerderheid mense verklaar die grootskaalse vyandigheid teenoor Christus en sy volgelinge tydens die bedeling van genade. Jesaja sê:

1.    Hy sal voor sy geboorte al geroep word om die Here se Kneg te wees (49:1).

2.    Hy sal uit ‘n maagd gebore word (7:14).

3.    Hy sal ‘n afstammeling van Ísai wees en dus uit die geslag van Dawid (11:1,10).

4.    Die Heilige Gees sal op Hom rus (11:2; 42:1).

5.    Hy sal meegevoel met die swakkes hê (42:3).

6.    Hy sal sy opdrag in gehoorsaamheid aan God uitvoer (50:4-9).

7.    Hy sal Homself gewilliglik aan lyding oorgee (50:6; 53:7-8).

8.    Hy sal deur Israel verwerp word (49:7; 53:1,3).

9.    Hy sal die sondes van die wêreld op Homself neem (53:4-6,10-12).

10.Hy sal, geestelik gesproke, die lig van die wêreld wees (42:6; 49:6).

Die regerende Messias

Die volgende profesieë sal tydens die wederkoms van die Messias vervul word:

1.    Hy sal verhoog word (52:13; 53:12).

2.    Hy sal kom om Israel te vertroos en wraak te neem op sy vyande (61:1-3).

3.    Hy sal Israel geestelik na die Here terugbring en ook fisies in hulle land herstel (49:5,8).

4.    Hy sal op die troon van Dawid regeer (9:6).

5.    Hy sal 'n nuwe verbond met Israel sluit (42:6; 49:8-9).

6.    Hy sal ‘n oorblyfsel in Israel van die valse messias se verdrukking red (10:20-23).

7.    Hy sal die nasies herstel en vestig (11:10).

8.    Hy sal deur al die nasies aanbid en vereer word (11:10; 49:7; 52:15).

9.    Hy sal die wêreld regeer (9:6).

10.Hy sal met geregtigheid en billikheid oordeel (11:3-5; 42:1,4).

Dit is van die grootste belang dat ons duidelikheid oor die twee rolle van die Messias as die lydende Kneg en die regerende Koning sal verkry, en veral ook oor die lang periode in die wêreldgeskiedenis wat tussen Israel se verwerping van die Messias en hulle eindtydse herstel na die land van hulle vaders verloop het. Ná ‘n tyd van groot benoudheid sal hulle uiteindelik ook met die Heilige van Israel versoen word.

Die getroue vesting

Jerusalem sal ‘n baie belangrike rol in die openbaring van God se koninkryk vervul, en die stad sal ewe belangrik vir Israel én die verheerlikte kerk in die Millennium wees. Die Messias sal daarin regeer en geregtigheid sal geskied. God sê: “Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin; daarna sal jy ‘n stad van geregtigheid, ‘n getroue vesting genoem word” (Jes. 1:26). Dit is steeds toekomstig want Jerusalem word nog nie die stad van geregtigheid en getrouheid genoem nie. Die Here sê: “In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon; en dit sal die naam daarvan wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” (Jer. 33:16).

Jerusalem sal die geestelike sentrum van die wêreld wees en nie langer deur die nasies vertrap word nie: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek” (Sag. 8:22). Jerusalem moet ontwaak en homself vir hierdie wonderlike, toekomstige rol voorberei: “Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad! ... Skud jou los uit die stof, staan op... o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion!” (Jes. 52:1-2).

Jerusalem is egter nog steeds in geestelike duisternis gehul weens die afwesigheid van die Messias in mense se harte. Hy alleen is die lig van die wêreld. As gevolg van hierdie ernstige probleem is daar ontstellende profesieë oor Jerusalem wat eers in vervulling moet gaan voordat die stad verheerlik sal word en veilig sal wees. God sê dat Hy alle nasies sal versamel om teen Jerusalem te veg (Sag. 14:2). Behalwe dat Hy die nasies sal straf wat Jerusalem beleër, sal Hy ook die stad se ongelowige Joodse inwoners toets en oordeel (Eseg. 22:17-22). Ons moet doelgerig vir die vrede van Israel en Jerusalem bid, maar in gedagte hou dat ware vrede slegs sal heers nadat die Messias gekom het.

“Sion sal deur strafgerig verlos word en die van hom wat terugkeer, deur geregtigheid. Maar daar sal verbreking wees van die oortreders en die sondaars almal saam; en die wat die Here verlaat, sal omkom” (Jes. 1:27-28). Die kontras tussen die lot van die gelowige oorblyfsel en die goddeloses in Israel blyk duidelik uit hierdie verse. Die oorblyfsel sal in die nuwe, verloste Jerusalem (Sion) woon waar God se geregtigheid sal heers. Bose lede van die volk sal deur God geoordeel word en sterwe.

Die verlossing van Israel en Sion ná die verdrukking

Die volk Israel het nog nooit eers naastenby aan die geestelike standaard voldoen wat God vir hulle gestel het nie. Inteendeel – hulle het as die uitverkore volk van God grootliks gefaal en Jerusalem omskep in ‘n stad waarin immoraliteit en ongeregtigheid beoefen word, van die leiers af tot by die gewone inwoners. Hierdie toedrag van sake bestaan vandag nog steeds en is die groot rede waarom die oordele van God nodig is om hierdie volk van sy sonde te suiwer – insluitend Jerusalem wat hulle regeringsetel is. Jesaja sê: “Ag, hoe het die getroue vesting ‘n hoer geword! ... Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag belonings na... Daarom spreek die Here Here van die leërskare, die Magtige van Israel... Ek sal my wreek op my vyande! En Ek sal my hand teen jou uitstrek... Daar sal verbreking wees van die oortreders en die sondaars almal saam; en die wat die Here verlaat, sal omkom” (Jes. 1:21-25,28).

Die morele standaard van Jerusalem sal verder versleg tot op die punt waar die stad met Sodom en Gomorra vergelyk kan word. Gedurende die afgelope paar jaar het Jerusalem selfs gay-parades in sy strate toegelaat. Israel sal ‘n verbond met die valse messias sluit (Joh. 5:43), en hy sal teen die volgelinge van die ware Messias oorlog voer. Hy sal die twee spesiale getuies doodmaak wat God in hierdie tyd sal opwek om ‘n oorblyfsel in Israel van totale geestelike ondergang te red. Johannes sê oor hierdie twee getuies: “En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak; en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is” (Op. 11:7-8).

Alles is egter nie onherroeplik vir afvallige Israel verlore nie. Sion (Jerusalem) sal inderdaad geestelik gered word om die stad van die Groot Koning te word (Ps. 48:3). Dit sal tydens die hoogtepunt van die slag van Armageddon gebeur wanneer die hemelse Regter sy voete op die Olyfberg neersit (Sag. 14:4-5). Paulus sê: “En so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem” (Rom. 11:26-27). Hierdie profesie is van Jesaja 59:20-21 afgelei, wat ‘n vertroostende belofte van die Here aan die getroues in Israel is: “Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die Here.”

Paulus gaan voort: “Maar ook hulle [die Jode] sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent. Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was [die heidene], en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word?” (Rom. 11:23-24).

Die vraag is: wanneer sal die ongeloof van Israel beëindig word? Hulle geestelike ontwaking sal progressief in die sewe jaar lange verdrukking plaasvind. Aanvanklik sal daar 144 000 Jode gered word (Op. 7:1-8). Gedurende die loop van die verdrukking sal meer van hulle gered word, maar die meerderheid sal eers op die laaste dag van die verdrukking gered word wanneer hulle die Messias op die Olyfberg sien kom. God het ‘n duidelike belofte hieroor gegee: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megiddo” (Sag. 12:10-11).

Daar sal geen ware en blywende vrede in Jerusalem wees voor sy inwoners almal die Prins van Vrede in hulle harte ontvang het nie. Slegs die Messias, wat ook die Koning van konings is, kan ‘n hemelse vrede in ‘n troebel en sonde-oorheerste wêreld skep, maar dit sal slegs gebeur nadat die onbekeerlike sondaars geoordeel en van die toneel verwyder is.

Oordele van die dag van die Here

Die komende verdrukking van sewe jaar (vgl. Dan. 9:27), en veral sy tweede helfte van 3½ jaar (vgl. Matt. 24:15-22), sal met die ongekende verdelging van sondaars op aarde gepaard gaan. Jesaja en ander profete beskryf hierdie tydperk as “die dag van die Here” wanneer goddelike oordele oor die hele wêreld sal kom om die wêreld van die vloek te verlos wat deur sonde teweeggebring is:

“Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. Want die sterre van die hemel en sy Orions sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie. En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir. Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die Here van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed” (Jes. 13:9-13).

Ander soortgelyke waarskuwings oor die Here se oordele op hierdie dag is op skrif gestel sodat mense dit nie ligtelik opsy moet skuif en minag nie. Die wêreldwye omvang van die vernietiging, en ook die redes vir die oordele, naamlik ‘n uiters bose geslag mense soos in die tyd van Noag en Lot, word telkens beklemtoon:

“Kyk, die Here maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners... Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek... Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners: want hulle het die wette oortree, en die insettinge geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy inwoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor” (Jes. 24:1-6).

“So sê die Here van die leërskare: Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ‘n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde. En die wat deur die Here verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees” (Jer. 25:32-33).

“Maar dié dag behoort aan die Here Here van die leërskare, ‘n dag van wraak, om wraak te neem op sy teëstanders; en die swaard sal verslind en versadig en dronk word van hulle bloed; want die Here Here van die leërskare het ‘n slagoffer in die Noordland, by die Eufraatrivier” (Jer. 46:10).

Joël sê die volgende oor die groot oorlog van Armageddon, wat duidelik God se oordeel oor die bose en bandelose nasies is: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom… Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Josafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het… Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die Here in die dal van beslissing! Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in” (Joël 2:31; 3:1-2,14-15).

Die Here Jesus het ook na hierdie tyd van die uitgiet van goddelike toorn verwys toe Hy gesê het: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22).

Johannes bevestig dat hierdie donker tydperk in die geskiedenis van die mensdom in die komende groot verdrukking sal verloop, en beskryf dit as die dag van die Lam se toorn: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle versteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:12-17).

Afgesien van die verskrikking van die groot verdrukking wanneer miljoene mense in ongeloof sal sterf (vgl. Sag. 13:8; Op. 9:15,20-21; 19:19-21), wag die ewige poel van vuur op al die bose mense van alle tye ná die tweede opstanding en die groot wit troon-oordeel aan die einde van die Millennium (Op. 20:14-15).

Jesaja sluit sy boek af met ‘n sterk waarskuwing deur God teen hierdie plek van ewige veroordeling: “En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees (Jes. 66:24). Hierdie sombere maar ernstige manier waarin die boek Jesaja beëindig word, beklemtoon die dringende behoefte van ongeredde sondaars om hulle vir verlossing tot die Here te bekeer.

Die finale vernietiging van Babilon

In sy bespreking van die oordele van die dag van die Here verwys Jesaja ook duidelik na die finale vernietiging van Babilon. Profesieë wat op die val van Babilon dui, is so duidelik en absoluut dat geen tydperk in die ganse geskiedenis van Babilon en Assirië gevind kan word waarin hulle ten volle vervul is nie. Beoordeel die volgende stelling:

“So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. Mense sal daar in ewigheid nie woon nie, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie, en geen herders sal hulle vee daar laat lê en rus nie. Maar daar sal boskatte lê, en hulle huise sal vol uile wees; en volstruise sal daar hou, en veldduiwels daar rondspring” (Jes. 13:19-21; kyk ook Jeremia 51 en Openbaring 18).

In die lig van die voortgesette strategieë van die koninkryk van die duisternis, rus God se oordele steeds op Babilon en sy bose werke. God se oordele oor Babilon in die Ou Testament is nooit ten volle vervul nie, daarom het Babiloniese sameswerings om wêreldregerings te vorm, dikwels in die geskiedenis voorgekom. Dit is duidelik dat die finale oordeel oor Babilon en sy antichristelike regeringsvorm steeds toekomstig is en tydens die komende dag van die Here voltrek sal word. Dit is binne hierdie raamwerk dat die eindtydse wêreldgodsdiens, wêreldregering en wêreldekonomie van die Antichris in Openbaring 17 en 18 Babilon genoem word. Die vernietiging daarvan in die groot verdrukking sal die finale vernietiging van Satan se eeue oue Babiloniese sameswering teen God se koninkryk wees.

Walvoord & Zuck (ibid. bl. 1058) sê: “Babilon het God se toorn verdien omdat dié stad vir baie lank die tuiste van anti-God aktiwiteite was. Van sy vroegste ontstaan af (Gen. 11:1-9) is dit deur rebellie teen God gekenmerk. Terwyl verskillende dinastieë deur die eeue heen oor die stad geregeer het, is dit as ‘n plek van haat teenoor die God van Israel beskou. Selfs in die verdrukking sal dit ‘n sentrum van haat teen God wees (Op. 17–18)... ‘Die dag van die Here’ verwys na die tyd van die Here se oordeel oor die goddelose wêreld en/of die verlossing van sy volk. In Jesaja se tyd was daardie oordele aan die kom as gevolg van die geweldige politieke beroering wat gedurende die daaropvolgende paar dekades sou uitloop op die val van Babilon in die hande van die Assiriërs in 689 v.C. Die politieke beroering van daardie tyd was soortgelyk aan die oordele wat oor die hele aarde sal kom net voordat God sy duisendjarige vrederyk op aarde vestig.”

In die Nuwe Testamentiese afdeling van hulle Bible Knowledge Commentary, bl. 969-970, bespreek Waloord & Zuck verder die eindtydse manifestasie van Babilon in hulle kommentaar oor Openbaring 17 en 18: “Babilon – die oorsprong van so baie heidense godsdienste wat in opposisie teen die godsdiens van Israel én die geloof van die kerk was – word hier in sy finale oordeel beskryf. Hierdie hoofstukke pas nie chronologies by die reeks seëls, basuine en die sewe laaste plae van God se toorn in nie... In hoofstuk 17 word Babilon in sy godsdienstige karakter gesien, wat op die vestiging van ‘n wêreldgodsdiens uitloop, en dit pas beter by die eerste helfte van die laaste sewe jaar voor Christus se wederkoms in. Hoofstuk 17 beskryf ook die vernietiging van Babilon deur 10 konings wat mederegeerders van die Antichris sal wees (v. 16). In teenstelling hiermee verwys hoofstuk 18 waarskynlik na Babilon as ‘n politieke mag en ‘n groot stad as die magsbasis van ‘n wêreldryk wat in die tweede helfte van die laaste sewe jaar voor Christus se wederkoms [m.a.w. in die groot verdrukking] ‘n dominante posisie sal inneem. Daar word omtrent 300 keer in die Bybel na Babilon verwys. Soms word dit as ‘n sataniese godsdienstige program beskryf wat die ware aanbidding van God teëstaan, maar meesal word dit as ‘n politieke mag voorgestel wat ‘n hoofstad met die naam van Babilon het. Die eindtyd bring hierdie twee lyne van waarheid oor Babilon saam en dui God se finale oordeel daaroor aan.”

Bybelkenners is hoogs verdeeld oor hoe die eindtydse konsep van “Babilon” verklaar behoort te word. Sommige van hulle pas dit op Rome en selfs op Amerika toe. Bybelse profete stel dit egter duidelik dat die antieke Babiloniese ryk die voortgesette voorwerp van God se toorn is. Die valse godsdienste van die wêreld het almal in Babilon ontstaan en daarvandaan oor die wêreld verspreid geraak. Dit is baie moontlik dat die afvallige gelowe in die eindtyd ‘n multigodsdienstige ekumeniese alliansie sal vorm en hulleself in die herboude stad van Babilon in Irak sal hervestig. Die Antichris sal na alle waarskynlikheid die herbouing van antieke Babilon bevorder.

Dit moet verder in gedagte gehou word dat die antieke Babiloniese ryk groot gebiede van die Midde-Ooste beheer het, insluitende die huide Golf-gebied waar baie van die olieryk Arabiese state gevestig is en in die afgelope paar dekades tot roemrykheid opgebou is. Hulle beheer reeds ‘n groot deel van die wêreldekonomie en bou luisterryke stede soos Dubai. Die Antichris sal as “die koning van die Noorde” (Dan. 11:31-45) opkom uit die gebied wat histories as Babilonië, en in ander tye ook as Assirië, bekend gestaan het.

Die finale vernietiging van Babilon sal reg aan die einde van die groot verdrukking plaasvind wanneer die Messias na Jerusalem terugkeer om sy vyande te oordeel en die oorlewende oorblyfsel van Israel te red. Johannes sê: “En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ’n geweldige groot aardbewing. En die groot stad [Jerusalem] is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn” (Op. 16:18-19). Dit sal die einde van alle vorms van godsdienstige, politieke en ekonomiese rebellie teen die koninkryk van God wees.

Die val van Satan

In Jesaja 14 gebruik die Here die val van die koning van Babel om Lucifer, die môrester, se val uit die hemel te beskryf. Babilon is ‘n bekende simbool van Satan se koninkryk op aarde, daarom het Satan tydens die aanvanklike vestiging van Babilon in Nimrod gevaar, hom beïnvloed om ‘n geweldenaar te word, en in sy grootheidswaan ‘n stad en ‘n toring te bou waarvan die spits tot aan die hemel sou reik. Só kon die gevalle mens oor die hele aarde heers, na die hemel opklim en homself met God gelykstel (Gen. 11:4-6). In die latere geskiedenis van Babilon was die stad steeds die simbool van ‘n magtige koninkryk wat vyandig teenoor God se koninkryk was, en volgens Openbaring 18 sal dit in die eindtyd weer herbou word en sy goddelose heerskappy oor die nasies van die wêreld voer. Die demoniese konnotasie van hierdie bose stad blyk duidelik uit profesieë oor sy finale val: “Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste” (Op. 18:2).

Lucifer was deur al die eeue heen die werklike koning van Babel, ook van die verborge, geestelike Babilon van valse gelowe. Die menslike tiranne wat in Babilon regeer het, was almal verpersoonlikings van hom en het sy rebellie, geweld, godsdienstige selfverheffing en afgodediens tot ongekende uiterstes gevoer. Dit is paslik dat Lucifer se val uit die hemel met die val van Babel se koning vergelyk word, omdat sy koninkryk gedoem is om onder te gaan. Uit die konteks is dit baie duidelik dat Lucifer hier ter sprake is, omdat die aardse koning van Babilon nooit die môrester (lucifer) was wat op die berg van samekoms in die hemel gesit en homself met God gelykgestel het nie:

“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, en my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil opklim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos ‘n woestyn gemaak en sy stede verwoes het?” (Jes. 14:12-17).

Dit moes ‘n dramatiese en skielike gebeurtenis gewees het toe Lucifer en sy engele deur God uitgewerp is. Johannes sê hy het ‘n derde van die sterre van die hemel met hom saamgesleep (Op. 12:4), wat daarop dui dat hy aansienlike mag het, met miljoene ondergeskiktes deur wie hy kan werk. Die gevolge van Lucifer se uitwerping uit die hemel was geweldig. Hy het wraak gesweer op God en sy koninkryk deur God se skeppingswerk oral aan te val en te verwoes. Hierdie oorlogsverklaring het finaal van hom Satan, God se vyand en groot teëstander, gemaak. Hy wil veral die mens wat na die beeld van God geskape is, in sy mag kry en uiteindelik verwoes, daarom beskryf die Here hom as ‘n mensemoordenaar van die begin af (Joh. 8:44).

Die uitwerping van Satan uit die hemel was net die begin van sy vernedering. Hy het daarna die kans gekry om sy ware karakter te ontbloot en sodoende die maat van sy ongeregtigheid vol te maak. Dit het hy in sy verleidings- en verwoestingswerk onder mense gedoen. Die natuurlike skepping ly ook as gevolg van die sondeval en die vernielsugtige dade van die duiwel en sy menslike trawante. Tydens die sewe jaar lange bewind van die Antichris sal Satan sy grootste aanslag op die mensdom loods: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:12). Baie mense sal as gevolg van oorloë, pessiektes, hongersnode en ander onleefbare toestande sterf, en die aarde sal in ‘n verwoeste plek omskep word.

Satan se val, soos in Eségiël 28:12-17 en Jesaja 14:12-17 beskryf, vind in verskillende stadiums plaas. Dit sal ‘n verdere dimensie verkry wanneer hy aan die einde van die groot verdrukking, tydens die wederkoms van Christus, vir ‘n duisend jaar lank in ‘n put gebind word (Op. 20:1-3). Dan sal van hom gesê kan word: “Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos ‘n woestyn gemaak en sy stede verwoes het?” Aan die einde van die duisend jaar, nadat hy vir ‘n kort tydjie losgelaat is, sal Satan en al sy aanhangers vir ewig in die poel van vuur gegooi word (Op. 20:10).

Dit is belangrik om daarop te let hoedat Satan progressief in die Bybel geopenbaar word, want dit het na ‘n hele paar beskrywende name van hom aanleiding gegee. Hierdie name is ‘n verdere aanduiding van sy motiewe, werkswyse en bose karakter. Satan en sy demone werk uit mistiese sfere, uit die onderwêreld (Luk. 8:31) of uit die lug bokant die aarde (Ef. 6:12), en verkies om ter wille van groter sosiale aanvaarbaarheid hulle ware identiteit te verberg. Aanvanklik het hulle die identiteit van verskeie afgode, en selfs voorouergeeste, aangeneem om te verseker dat mense hulle onwetend sou aanbid en dien deur aan hulle te offer. Hierdie gebruik het deur die eeue heen groot inslag gevind, en in Nuwe Testamentiese tye is Christene ook ernstig gewaarsku om niks hiermee te doen te hê nie.

Paulus het aan die Korinthiërs hieroor geskryf: “Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie… Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie” (1 Kor. 10:19-21). Of die heidene dit wil weet of nie, hulle dien die duiwel deur die offers wat hulle bring.

In die Ou Testament het die heidene ‘n groot aantal Baäls (vreemde gode), Astartes (godinne) en ook ander afgode aanbid (Rigt. 2:11-13; 1 Sam. 12:10) en Israel is dikwels verlei om hieraan mee te doen. Die afgodediens is ook saam met verskeie okkultiese aktiwiteite soos spiritisme, waarsêery, goëlery en towery beoefen, wat alles werke van die duisternis is waarmee die duiwel mense mislei. Israel is ernstig teen hierdie dinge gewaarsku (Deut. 18:10-14). Sterrewiggelary word ook saam met ander okkultiese aktiwiteite as werke van die duisternis verbied. Jesaja sê die volgende oor hierdie sonde:

“Tree tog op met jou besweringe en met die menigte van jou towerye waarmee jy jou vermoei het van jou jeug af; miskien kan jy iets uitrig, miskien kan jy skrik aanjaag! Jy het jou vermoei met die menigte van jou planne; laat hulle tog optree en jou red – die wat die hemel indeel, die sterrekykers wat elke maand laat weet wat oor jou sal kom. Kyk, hulle het geword soos stoppels, vuur het hulle verbrand; hulle kan hulself nie red uit die mag van die vlam nie – dit is geen kool om by warm te word nie, geen vuur om daarvoor te sit nie! (Jes. 47:12-14). Ons mag nie Satan se waarsêende geeste raadpleeg nie.

Oorsprong van die Antichris

Jesaja identifiseer die Antichris as die koning van Assirië: “Maar as die Here sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë. Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos ‘n maghebber neergewerp. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na ‘n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos ‘n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat ‘n vlerk verroer of ‘n bek oopgemaak of gepiep het nie... En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die Here, die Heilige van Israel, in opregtheid” (Jes. 10:12-14,20).

Die beskouing van die Antichris as die Assiriër (of Babiloniër) word bevestig deur Daniël wat hom as die koning van die Noorde beskryf (Dan. 11:31-45). Hy sal uit die moderne Arabies/Islamitiese wêreld in die noorde en noordooste van Israel na vore kom (die huidige Sirië, Irak en aangrensende Golf-state), ‘n noordelike konfederasie vorm en die suidelike Arabiese state onderwerp wat onder die leiding van Egipte (die koning van die suide) teen hom gemobiliseer sal word. Hy sal Israel ook aanval en oorwin (Jes. 10:20).

Dit is duidelik dat hierdie eindtydse diktator slegs van ‘n land af kan kom wat direk noord van Israel is – dit is die gebied waar die antieke Babiloniese en Assiriese ryke geleë was. Hy kan nie uit Rusland kom nie, want dié land is in “die agterhoeke van die noorde” (Eseg. 39:1-2), m.a.w. ver noord van Israel af. Hy kan ook nie uit Europese lande soos Italië, Frankryk of Brittanje kom nie, omdat hulle wes van Israel is. Hy kan allermins ook nie uit Amerika kom nie.

Jesaja sê dat hy spoedig die grense tussen die nasies sal verwyder om ‘n nuwe wêreldorde van wêreldburgers in te stel. Hy sal ook beheer oor die wêreldekonomie verkry en sy planne van globalisering sonder enige teëstand uitvoer. Maar “in daardie dag” (verwysend na die dag van die Here) sal Israel deur God van die Assiriër se juk bevry word en in veiligheid woon (Jes. 10:20). Nadat die koninkryk van God ingestel is, sal die Messias uit Jerusalem regeer. Hy sal deur al die nasies erken en geëer word, insluitende die Assiriërs en Egiptenare in die Midde-Ooste (Jes. 19:23-25).

Hoe kan dominioniste die openbaring van God se koninkryk nou verkondig, nog voordat die Koning van die konings gekom het, Israel steeds geestelik verblind is, die vyandige Arabiese state onder die beheer van Islam is met baie van hulle wat hulleself vir die vernietiging van Israel beywer, die geestelike suiwering van Israel en die nasies deur goddelike oordele nog nie begin het nie, en die wêreld volgens alle aanduidings op die drumpel van die verdrukking onder die leierskap van die Antichris en die valse profeet is?

Die goddeloses sal uitgeroei word

Die groot vraag is of ons die koninkryk van die hemel kan beërf nog voordat die goddeloses uitgeroei is, en die antwoord is ‘n uitdruklike “Nee.” Jesaja 1:28 sê: “Daar sal verbreking wees van die oortreders en die sondaars almal saam; en die wat die Here verlaat, sal omkom.” Wat die huidige tyd betref, word die duiwel beskryf as “die owerste van hierdie wêreld” (Joh. 14:30), “die god van hierdie wêreld (2 Kor. 4:4), en “die owerste van die mag van die lug” (Ef. 2:2). Sy gees van rebellie werk nou in die kinders van ongehoorsaamheid (Ef. 2:2), en dit verklaar die feit dat ons onsself in “die teenwoordige bose wêreld” bevind (Gal. 1:4) waarin die meeste mense die breë pad bewandel wat na die hel lei (Matt. 7:13-14).

Ware Christene word deur die wêreld uitgestoot en vervolg (Joh. 15:18-19; 16:33) en dit is vir hulle onmoontlik om die wêreld te beërf of te beheer voordat die goddeloses geoordeel en verwyder is. Hierdie oordele sal tydens die sewe jaar van die verdrukking plaasvind en in daardie tyd sal baie van die sondaars God laster oor die plae wat Hy oor hulle uitstort (Op. 16:10-11). Wanneer die komende vredevors sy vrederyk op aarde gevestig het, sal die goddeloses nie meer daar wees nie en hulle plekke sal verlate wees. Slegs dan sal die Here Jesus se belofte vervul word dat die sagmoediges – dit is diegene wat nie hardkoppig en geestelik wederstrewig is nie – die aarde sal beërf (Matt. 5:5). Die sagmoediges word deur die Heilige Gees gelei.

Psalm 37 sluit by Jesaja aan oor die uitdelging van die goddeloses (Jes. 1:28). Dawid verwys dikwels na die tyd wanneer die goddeloses uitgeroei sal word sodat die regverdiges die aarde kan beërf. In Psalm 37 wei hy verder hieroor uit:

  • “Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie; want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog” (v. 1-2).
  • “Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die Here verwag, hulle sal die aarde besit” (v. 9).
  • “Nog ‘n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie. Die ootmoedige daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (v. 10-11).
  • “Die goddelose sal omkom en die vyande van die Here soos die prag van die weivelde; hulle verdwyn soos rook, hulle verdwyn” (v. 20).
  • “Want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde besit; maar die wat deur Hom vervloek word, sal uitgeroei word” (v. 22).
  • “Wag op die Here en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense” (v. 34).

Sagaria 14:12-13 en Openbaring 19:19-21 beskryf die grootskaalse verdelging van God se vyande gedurende die slag van Armageddon wanneer Jesus Christus op die laaste dag van die groot verdrukking na die aarde terugkeer. Dit sal die kulminasie van God se oordele wees wat gedurende sewe jaar van die verdrukking uitgegiet sal word – dit is die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe laaste plae wat in Openbaring 6 tot 19 beskryf word.

Die oordele van die komende dag van die Here is spesifiek op die vernietiging van die goddelose mense gerig. Jesaja sê dat die Here die sondaars uit die aarde sal verdelg en die boosdoeners vir hulle ongeregtigheid sal straf (13:9). Die vloek van die Here sal die aarde verteer en min mense sal oorbly (24:6). Teen die einde van sy boek herhaal Jesaja hierdie onvergelyklike uitstorting van goddelike toorn: “Want met vuur en met sy swaard sal die Here strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die Here verslaan is, sal baie wees” (66:16).

Wanneer die Seun van die mens kom, sal die Antichris en die valse profeet in die poel van vuur gewerp en Satan vir ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put gebind word. Christus sal van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem regeer en vrede sal oral heers. Die bose mense wat vir al die misdaad en bloedvergieting verantwoordelik was, sal almal vernietig wees en die regverdiges die aarde beërf.

Die duisendjarige vrederyk

Jesaja het een van die merkwaardigste profesieë oor die vrederyk van die Messias opgeteken wat in die laaste dae, tydens sy wederkoms, in Jerusalem gevestig sal word:

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:2-4). (Miga 4:1-3 is feitlik idenities aan hierdie profesie.)

Groot seëninge wat op ‘n tyd van oordeel en bekering sal volg, word dikwels in die boek Jesaja deur God belowe. Onmiddellik ná die skerp aanklagte teen Israel weens hulle sondigheid (1:2-31), bespreek Jesaja ‘n konsep wat dikwels in sy profesieë herhaal en verder verduidelik word. ‘n Tyd gaan aanbreek wanneer Jerusalem die hoofstad van die Messias se duisendjarige vrederyk sal wees.

Daar is ‘n paar uitstaande aspekte van die profesie in Jesaja 2 wat beklemtoon moet word:

1.    Hierdie wonderlike beloftes sal aan die einde van die dae vervul word, wat dikwels geassosieer word met Israel se finale herstel uit hulle internasionale verstrooiing, hulle geestelike suiwering gedurende die tyd van die benoudheid van Jakob, die koms van die Messias, die oordeel oor die goddelose nasies, en die vestiging van die Messias se duisendjarige vrederyk.

2.    Die berg van die huis van die Here (die Tempelberg waar die tempel van die vrederyk gebou sal word) sal die episentrum van Jerusalem, Israel én die hele wêreld wees. Die heerlikheid van die Here sal daarvandaan na al die eindes van die aarde uitgaan. “Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jes. 11:9).

3.    Jerusalem sal die hoofstad van die Messias se duisendjarige vrederyk wees. Die stad sal met skoonheid en heerlikheid beklee wees wat veel groter as dié in die dae van Salomo se regering sal wees. Die troon van Dawid sal herstel wees (Jes. 9:6) en die Woord van die Here sal van daar af na al die nasies uitgaan. Dit is in skrille kontras met die kerkbedeling toe Israel verstrooi was en Jerusalem deur die nasies vertrap is (Luk. 21:24).

4.    Die godheid van die Messias word bevestig. Hy word as die Here (Jahweh) en ook die God (Elohim) van Jakob beskryf. Jesaja het duidelik aan Israel gesê dat die Seun wat vir hulle gebore sou word, die “Sterke God” genoem sou word, en dat Hy die “Vredevors” sou wees wat van Dawid se troon af uit Jerusalem sal regeer (Jes. 9:5-6). Ander profete was ook van die godheid van die Messias bewus. Toe Sagaria die koms van die Messias beskryf het wanneer Hy sy voete op die Olyfberg buite Jerusalem sal sit, het hy gesê: “Dan sal die Here my God [Jahweh my Elohim] kom, al die heiliges met U! ... En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:5,9). Toe die volle godheid van Jesus aan Thomas geopenbaar is, het hy in verwondering uitgeroep: “My Here en my God!” (Joh. 20:28).

5.    Die nasies sal afvaardigings na Jerusalem stuur om in die weë van die Here onderrig te word. Daar sal geen afgodediens wees nie en Satan, die verleier van die nasies, sal in ‘n bodemlose put gebind wees (Op. 20:1-3). “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Sagaria sê: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek... In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23).

6.    Die Messias sal tussen die nasies oordeel en oor baie volke regspreek. Hoewel die duiwel nie daar sal wees om mense aktief tot sonde te verlei nie, sal hulle steeds met ‘n sondige natuur gebore word en veral tot sondes van versuim geneig wees. Sagaria beskryf een van die sondes in die Millennium wat tot nalatigheid sal lei: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie” (Sag. 14:16-17). Ter wille van die handhawing van goeie orde sal die nasies met ‘n ysterstaf regeer moet word (vgl. Op. 19:15). Enige ander geskille of probleme sal op ‘n baie regverdige maar besliste manier opgelos word. Die verheerlikte heiliges sal in die Millennium saam met Christus regeer: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf... net soos Ek ook van my Vader af ontvang het” (Op. 2:25-27).

7.    Daar sal geen militêre opleiding of oorlogvoering wees nie. Die nasies sal van hulle swaarde pikke smee en nie meer leer om oorlog te voer nie. Alle nasionale en internasionale konflikte sal deur doeltreffende regeringsinstellings en regverdige regspleging opgelos word. Daar sal geen bose geestelike magte aan die werk wees om sondaars tot ondermynende aksies aan te hits nie, omdat die duiwel gebind sal wees. Daar sal geen behoefte aan militêre magte wees om lande teen vyandige invallers te beskerm nie, en derhalwe ook geen behoefte aan wapens nie. Bestaande militêre toerusting sal gesmelt en die metaal gebruik word om landbouimplemente en ander toerusting van te maak wat vir vreedsame doeleindes gebruik sal word. Daar sal ‘n oorvloed van ware en standhoudende vrede op aarde wees.

Dit is baie moeilik, indien nie onmoontlik nie, om te begryp hoe koninkryk-nou teoloë so verwaand kan wees om die volle openbaring van God se koninkryk op aarde te verwag voor die wederkoms van die Messias, voor die veroordeling en verdelging van die goddeloses, voor die volle geestelike herstel van Israel, voor die verheerliking van die kerk, en voor die verwydering van Satan en sy demone van die toneel van menslike lewe op aarde. Enige pogings om nou so ‘n koninkryk te verklaar, is mensgemaak en tot mislukking gedoem.

Wat ons wél in die wêreld sien, is ‘n groot toename in sonde, misdaad, korrupsie, godsdienstige onverdraagsaamheid (veral onder fundamentalistiese Islamiete), stygende spanning tussen nasies, en ‘n wapenwedloop wat baie duur is en geld verbruik wat dringend vir humanitêre doeleindes soos behuising, voedsel, werkskepping, onderwys en armoedeverligting nodig is. Verskeie lande is aktief betrokke by die vervaardiging van wapens vir massavernietiging. Die president van Iran het openlik gesê dat hy Israel wil vernietig en van die wêreldkaart af uitwis. Dreigemente van hierdie aard dwing vreedsame nasies om ook by die wapenwedloop betrokke te raak ten einde hulleself te kan verdedig. Daar is al hoe meer gerugte van oorloë in die wêreld.

Dit is ‘n ontstellende teken dat baie mense ‘n openlike bewondering het vir lande wat militêr sterk is en voortgaan om nog dodeliker wapens te vervaardig. Hulle sal om dieselfde rede ook die Antichris bewonder en selfs aanbid: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier [die Antichris] aan gegaan. En hulle het die draak [Satan] aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:3-4).

Bybelse profesieë stel dit bo enige twyfel dat daar in die eindtyd ‘n groot geestelike verval sal plaasvind as voorbereiding vir die openbaring van die Antichris as die valse vredevors en mens van sonde (2 Thess. 2:3-8). Gedurende en selfs voor die verdrukking sal daar ‘n dramatiese toename in oorloë en gerugte van oorloë wees (Matt. 24:6-7). Dié oorloë sal uiteindelik na die groot wêreldoorlog van Armageddon lei (Sag. 14:12; Op. 19:19).

Hierdie scenario is ver verwyderd van die Messias se duisendjarige vrederyk. Die verslegtende toestande op aarde roep na ‘n direkte intervensie deur God om boosheid te oordeel, Israel te red, “die verderwers van die aarde te verderf” (Op. 11:18), en vir Christus om die heerskappy op sy skouers te neem (Op. 11:15). Slegs dan sal die koninkryk van die hemel ook uiterlik kom en deur almal geniet word.

Israel, die nasies én die natuur sal geseën word

Jesaja 11 is ‘n baie belangrike hoofstuk oor die openbaring van God se koninkryk op aarde tydens die wederkoms van die Messias. Groot seëninge sal op die uitstorting van goddelike oordele volg. Die profeet sê onder andere die volgende:

“Daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here... Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees. Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek. En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ‘n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees. En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly... [Hy sal] bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde” (Jes. 11:1-12).

Proff. Walvoord & Zuck (ibid. bl. 1056-1058) bied a baie duidelik eksegese van hierdie gedeelte aan, deur al die uitsprake daarvan letterlik te verklaar. Jesaja 11 is ‘n baie belangrike bydrae tot ons kennis oor die Millennium:

“Hierdie afdeling oor God se ryk (11:1–12:6) sluit ‘n beskrywing in van die Messias, die koninkryk self, en ook die oorblyfsel wat die koninkryk sal beërf... Die Here sal die hoë bome van die bos afkap (10:33-34), en dit dui op buitelandse soldate en hulle leiers. God se koninkryk sal verrys deur ‘n takkie wat sal uitspruit uit die stomp van Isai, wat Dawid se vader was (vgl. Op. 22:16). Jesaja het ongetwyfeld aan God se belofte aan Dawid gedink (2 Sam. 7:16), naamlik dat ‘n afstammeling van Dawid vir ewig oor sy koninkryk sal regeer (vgl. Jes. 9:6). Hierdie loot, die Messias (vgl. Jer. 23:5), sal vrugte dra, wat daarop dui dat Hy voorspoedig sal wees en ook tot ander se voordeel sal regeer. Hy is die wortel (vgl. Jes. 11:10)... Hy sal direk van Dawid afstam (vgl. Matt. 1:1) en sal God se beloftes in die Davidiese verbond vervul.

“Die karakter en werk van die ‘Takkie’ word in 11:2-3 beskryf. Die Gees van die Here sal op Hom wees... Die attribute van die Heilige Gees sou die karakter van die Messias bepaal. As gevolg van sy wysheid, verstand, raad en kennis is Hy die Wonderbare Raadsman (Jes. 9:5). Jesaja het meer as enige ander Ou Testamentiese profeet na die Heilige Gees verwys... Die Messias sal as wêreldheerser die wêreld oordeel (vgl. 2:4)...

“Jesaja het die koninkryk van geregtigheid beskryf wat die Messias sal vestig (11:6-9). Die vloek sal verbreek wees, vrede en harmonie sal heers en die wilde diere sal weer mak en skadeloos teenoor huisdiere en mense wees. Die wolf, luiperd, leeu en beer word as voorbeelde genoem van wilde diere wat in veiligheid met plaasdiere soos die lam, bokkie, kalf, koei en os sal saamleef. ‘n Kind sal veilig wees saam met leeus, bere, kobras en adders (vgl. 65:25)... Baie Bybelstudente vertolk nie hierdie verse letterlik nie omdat hulle meen dat sulke veranderings in die diereryk onmoontlik is. Omdat die Messias egter ‘God met ons’ is (7:14), en Hy saam met sy volk sal woon, behoort dit nie moeilik te wees om sulke veranderings in die natuur te bedink nie. Hoewel die vloek van sonde tot ‘n sekere mate verwyder sal word, sal dit nie voor die einde van die vrederyk heeltemal verwyder word nie, wanneer die dood eers finaal sal verdwyn (Op. 20:14).

“Die rede waarom sulke harmonie moontlik sal wees, is omdat die aarde vol sal wees van die kennis van die Here (Jes. 11:9; vgl. Jer. 31:34; Hab. 2:14). Dit beteken meer as dat mense slegs verstandelik van die Here sal kennis dra. Die idee is dat mense oral volgens die beginsels van God en sy Woord sal leef. Die diere sal ook geraak word. Dit sal in die Millennium gebeur wanneer die Messias regeer (Jes. 9:5-6), Jerusalem prominensie in die wêreld geniet (2:2), en Juda en Israel in geloof in die land herstel sal word en volgens die nuwe verbond leef. Die Millennium kan nie nou reeds bestaan nie, omdat hierdie faktore nie kenmerke van die huidige bedeling is nie.

“Israel sal ‘n spesiale plek in die koninkryk van God hê as gevolg van die Abrahamitiese verbond (Gen. 15:18-21; 17:7-8; 22:17-18), die Davidiese verbond (2 Sam. 7:16) en die nuwe verbond (Jer. 31:33-34). Ander nasies sal egter ook deur die koninkryk bevoordeel word. As gevolg van die Messias se teenwoordigheid sal mense van oral af in Jerusalem bymekaarkom (vgl. v. 12; Sag. 14:9,16). Jesus het self ook gesê dat baie mense van buite Israel deel aan God se koninkryk sal hê (Luk. 13:29). God het aan Abraham beloof dat deur sy saad alle mense op aarde geseën sou word (Gen. 12:3). Die dispensasionele leerstelling dat Israel as gevolg van die beloftes aan Abraham ‘n spesiale plek in God se program het, sluit nie die nie-Joodse volke van ‘n spesiale plek in hierdie koninkryk uit nie.

“Jesaja wys in verse 11-16 op die Here se herstel van Israel en Juda uit al die uithoeke van die wêreld. Hy vergelyk dit met ‘n tweede eksodus, soos hulle aanvanklike uittog uit Egipte omtrent 700 jaar vroeër. Die eerste eksodus was een van die belangrikste gebeurtenisse in Israel se geskiedenis, want in slegs drie maande daarna het God die Mosaïese verbond met hulle gesluit, wat die begin van Israel se bestaan as ‘n nasie was... Die herstelde Israel en Juda sal hulle land in besit neem en hulle vyande oorwin... Wanneer Israel aan die begin van die Millennium almal na hulle land terugkeer, sal die Here die weg vir hulle berei.” (Einde van aanhaling).

Die huidige herstel van Israel is gedeeltelik en voorlopig omdat minder as die helfte van die 13 miljoen Jode in die wêreld na Israel teruggekeer het (vroeg in 2010 was daar omtrent 5,5 miljoen Jode in Israel). Ná sy koms sal die Messias die weg vir die res van die oorlewende Jode berei om na hulle land terug te keer. Daar moet ook op gelet word dat die Bybel nie hierdie land Palestina noem nie, maar Israel: “So spreek die Here Here: Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17).

‘n Volledig herstelde Israel – fisies, polities én geestelik – sal die seën van die Messias se teenwoordigheid in Jerusalem geniet, asook al die voordele van sy vrederyk, en sal self ‘n seën vir die hele aarde wees: “Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6).

Paulus bevestig die toekomstige rol van Israel as ‘n volk: “Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ‘n Israeliet... Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val [wat tot verwerping van die Messias gelei het] het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:1,11-12; vgl. Jer. 31:31-34; Sag. 8:23).

Koninkryksteoloë wat verkeerdelik ‘n koninkryk nastreef waarin Israel nie eers ‘n aandeel het nie, behoort eerder vir die verdere herstel en geestelike ontwaking van Israel te bid, hulle sodoende te seën en die weg vir die redding van die oorblyfsel voor te berei (vgl. Gen. 12:3; Jes. 10:22). Terwyl hulle dit doen, sal hulle bewus word van die verdiepende stryd tussen die magte van die lig en die duisternis in die Midde-Ooste, asook die opbou van apokaliptiese oorlogswolke in dié streek, en sodoende enige idee van ‘n mensgemaakte koninkryk in hierdie stadium op aarde verwerp.

Indien God nie in die sake van die mensdom tussenbeide tree deur sy Seun te stuur om die goddeloses te oordeel en oorblyfsel van Israel en die nasies te red nie, sal daar nie eers ‘n vae hoop op ware vrede en harmonie in die wêreld wees nie. Wat ons nou rondom ons sien, is die groot afval van die waarheid af – ook in omtrent alle kerke – en dit in sigself is ‘n aanduiding dat toestande in die wêreld ryp is vir ‘n oorname deur die Antichris.

Die natuurlike wêreld ly ook as gevolg van die mens se sonde en wag reikhalsend op die openbaring van Christus, sy verheerlikte kerk en die redding van Israel: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God... in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe” (Rom. 8:18-22).

Walvoord & Zuck (ibid. bl. 471-472) verduidelik die betekenis van hierdie verse soos volg: “Die verhouding tussen die mens en die fisiese skepping waarvan hy deel is en waarin hy leef, is bepaal deur God se straf en oordeel oor Adam ná die sondeval (Gen. 3:17-19). In Romeine 8:19-21 het Paulus bevestig dat hierdie verhouding ook ‘n toekomstige aspek in God se program vir die redding van die mensdom het... Die openbaring van die kinders van God sal plaasvind wanneer Christus sy eie kom haal. Hulle sal in sy heerlikheid deel (Rom. 8:18; Kol. 1:27; 3:4) en liggaamlik verheerlik word (Rom. 8:23). Die hele natuur (dooie én lewende dinge) word hier verpersoonlik as wagtend op daardie tyd.”

Die Here sal ‘n nuwe verbond met die diereryk sluit wat die fisiologie en aggressiewe geaardheid van vleisvretende jagters sal verander na die fisiologie en sagte geaardheid van plantvreters (Jes. 11:6-9; 65:25). Water sal volop wees en die droë woestyngebiede sal in  vrugbare streke met ‘n ryk plantelewe omskep word. God sê:

“Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ‘n waterplas maak en die dor land waterbronne. Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die wilde-olyfboom; Ek sal in die wildernis plant die sipres, die plataan en die denneboom, dié almal; sodat hulle almal saam kan sien en opmerk en verstaan dat die hand van die Here dit gedoen het en die Heilige van Israel dit geskape het” (Jes. 41:18-20).

Alle volke sal Christelik (Messiaans) wees

Slegs die ware God sal in die Millennium aanbid word – dit is die Drie-enige God: God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Alle afgode sal vernietig en die valse godsdienste verwerp word: “En in dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie; en ook die profete en die onreine gees sal Ek uit die land laat wegtrek” (Sag. 13:2).

In die verdrukking kort voor die wederkoms van Christus, sal afgodediens die aanbidding van die Antichris se beeld in die tempel in Jerusalem insluit (Dan. 9:27; 11:31; Matt. 24:15; 2 Thess. 2:4; Op. 13:14-15), hoewel ander vorms van afgodediens ook beoefen sal word (Op. 9:20). Wanneer Christus kom, sal die Antichris en sy totale polities-godsdienstige sisteem vernietig word, insluitend alle gebruike van valse godsdienste.

‘n Oorblyfsel van Israel en die nasies sal tot bekering kom en voor die ware Messias neerbuig wanneer Hy kom: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Jesaja verwys duidelik na hierdie tyd wanneer ook die (huidige Islamitiese) vyande van Israel in die Midde-Ooste voor die Messias sal rouklaag en Hom van harte sal dien. Dit sal ‘n unieke en wonderlike situasie wees wat nog nooit tevore in die geskiedenis gebeur het nie:

“En die Here sal die Egiptenaars slaan, slaan en genees; en hulle sal hul tot die Here bekeer, en Hy sal hulle verhoor en genees. In dié dag sal daar ‘n grootpad wees van Egipte na Assirië en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die Here dien. En in dié dag sal Israel die derde wees naas [saam met] Egipte en Assirië, ‘n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:22-25). Hulle sal die Messias van harte dien, en daar sal geen sprake meer van hulle valse opvattings van die verlede wees nie.

Afgesien daarvan dat die heerlikheid van die Here in Jerusalem geopenbaar sal word en alle nasies gereeld besoeke aan Jerusalem sal bring om in die weë van die Here onderrig te word (Jes. 2:3), sal daar ook vanaf ander volke uit die Midde-Ooste ‘n baie besondere getuienis tot die eer van God uitgaan. Dit sal ‘n belangrike kenmerk van die geopenbaarde koninkryk van God op aarde wees. Dit is duidelik dat ‘n situasie soos dié net deur ‘n direkte ingryping van God teweeggebring kan word. Die kerk het geen mandaat om die hele wêreld en al sy gemeenskappe volgens Christelike beginsels te hervorm, daardeur die koninkryk van God op aarde ten koste van alle vorms van boosheid in te stel, en in die proses van al die nie-Christelike godsdienste ontslae te probeer raak nie.

Ons kan slegs skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag en die evangelie verkondig so goed as ons kan. Hoewel baie mense gered en in die geloof bevestig word, het die meerderheid van hulle steeds die duisternis liewer as die lig omdat hulle werke boos is (Joh. 3:19). Hulle is die menigte mense wat op die breë pad van sonde, wêreldgesindheid en eiegeregtigheid is, terwyl die ware gelowiges ‘n relatief klein minderheid is (Luk. 13:23-24).

Israel sal die evangeliste van die Millennium wees

Wanneer die oorblyfsel van Israel gered is, sal die hele Israel ‘n Messiaanse volk wees wat die Here sal dien en sy lof onder al die nasies sal verkondig. “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit... Hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:31,34).

Jesaja maak die volgende stellings oor die geestelike toewyding en evangeliese uitreike van die herstelde Israel terwyl hulle in die lig van die Messias se teenwoordigheid in Jerusalem wandel:

Die naam van die Here sal verhoog en die groot dade van sy verlossing in die hele aarde verkondig word. “En in dié dag sal jy sê: Ek dank U, Here, dat U toornig op my gewees het; u toorn is afgewend, en U het my vertroos. Ja, God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie; want die Here HereHere Here is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil. En julle sal in dié dag sê: Dank die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is! Psalmsing tot eer van die Here, want Hy het heerlike dinge gedoen; laat dit bekend wees op die hele aarde. Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde” (Jes. 12:1-6). Die Heilige van Israel is nie op die oomblik groot in hulle midde nie, en as gevolg daarvan het hulle nog nie ‘n getuienis oor wat die Here vir hulle gedoen het nie. Die klein groepie Messiaanse Jode wat wél vir Jesus as Messias in Israel eer, word nie deur die meerderheid ongelowige en ortodokse Jode gerespekteer en ten volle as Jode aanvaar nie. Ons is steeds in die kerkbedeling, wanneer nie-Jode die plig het om teenoor Israel te getuig (Rom. 11:11). Die koninkryksbedeling moet nog in Israel en die hele wêreld aanbreek.

Hulle sal met die Heilige Gees vervul word en namens die Messias praat: “Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die Here. Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die Here: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die Here, van nou af tot in ewigheid nie” (Jes. 59:21-21). Voordat die nasionale bekering van Israel kan geskied, moet die Messias eers na Israel terugkeer en Homself in al sy genade en heerlikheid aan hulle openbaar (vgl. Rom. 11:26-27). Tydens sy wederkoms sal Israel Hom ten volle aanvaar en sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).

Israel sal die nasies evangeliseer en baie geëer word omdat hulle dit doen: “Julle sal priesters van die Here genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God! ... In plaas van julle skande ontvang julle ’n dubbele deel... Ek sal hulle getrou hul loon gee en ’n ewige verbond met hulle sluit. En hulle nageslag sal bekend word onder die nasies en hulle nakomelinge onder die volke; almal wat hulle sien, sal hulle daarvoor aansien dat hulle ’n geslag is wat die Here geseën het” (Jes. 61:6-9; vgl. Sag. 8:23).

Hulle werk sal grootliks geseën word: “Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6). In die kerkbedeling is nie-Jode hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik om die wêreld te evangeliseer, maar in die komende koninkryksbedeling sal die geestelik herstelde Israel daardie voorreg hê. Hulle sal dan hulle aanvanklike roeping vervul om God se spesiale getuies onder die nasies te wees.

Israel se huidige en toekomstige posisie

Daar is ‘n skrille kontras tussen Israel se posisie in die kerkbedeling en hulle toekomstige posisie in die koninkryksbedeling. Gedurende die kerkbedeling was Israel verstrooi en hulle hoofstad, Jerusalem, deur die nasies vertrap omdat hulle die Messias verwerp het. Jesus het vir die leiers van die volk gesê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaar maak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:37-39). Hy het ook vir die Jode gesê “hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).

Uit Israel se oogpunt is dit om die volgende vier redes baie duidelik dat die vrederyk nog nie vir dié volk aangebreek het nie:

Eerstens: Volgens die profete sal die Messiasryk ongekende seëninge vir Israel bring. Die volk het geeneen van hierdie seëninge die afgelope bykans 2000 jaar beleef nie. Tydens hulle internasionale ballingskap was daar geen ander volk wat soveel aanhoudende smarte as die Jode ervaar het nie. Selfs in die 40 jaar voor die verwoesting van Jerusalem was die land Israel ‘n kookpot van onderlinge twiste, haat en opstande teen die Romeinse owerheid.

Tweedens: In die vrederyk sal die Messias benewens sy wêreldwye koningskap ook die Koning van die Jode wees. Die feit is dat die Jode nog nooit vir Jesus as hulle Koning en Messias erken het nie. Hulle het nog nie as volk die geopende oë gehad om vir Hom wat hulle deurboor het, as Messias te erken nie (Sag. 12:10). Indien Jesus reeds die koningskap op die troon van Dawid aanvaar het (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17), dan is Hy as Koning van die Jode ‘n Koning sonder ‘n volk. Om profesieë só te verklaar, kom prakties daarop neer om die Bybel eenkant toe te skuif en jou eie teorieë te verkondig.

Derdens: In die vrederyk sal Jerusalem hoog en verhewe wees as die hoofstad van die wêreld (Jes. 2:2). Die nasies sal daarheen toestroom om in die weë van die Here onderrig te word, en Israel sal deur hulle geëer word. Die afgelope byna 2000 jaar was Jerusalem egter vertrap deur die nasies en die Woord van God grootliks deur omtrent almal van hulle geïgnoreer en geminag.

Vierdens: In die vrederyk sal Israel hulle doel as die uitverkore volk van God verwesenlik en die lof van die Messias onder alle nasies verkondig. Hulle sal dan almal gered wees (Jer. 31:34). Tot dusver het hulle as volk nog nie die Messias aanvaar nie en kon dus nie sy getuies onder die nasies wees nie.

Israel en Jerusalem is reeds gedeeltelik herstel, en hieruit weet ons dat die kerkbedeling vinnig na sy einde spoed. Binnekort sal die tyd van benoudheid vir Jakob aanbreek, aan die einde waarvan die oorblyfsel van Israel “sal opsien na [Hom] vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem” (Sag. 12:10-11). Dit sal ware berou wees.

Ná die tyd van benoudheid vir Jakob sal die oorlewende Jode wat deur ‘n verskriklike tyd gegaan het, met die Messias versoen word. Hulle sal slegs ‘n derde van die Joodse bevolking van daardie tyd wees (Sag. 13:8-9). Jesaja sê: “En wie in Sion oorgebly het en gespaar is in Jerusalem, dié sal heilig genoem word” (Jes. 4:3). “In dié dag sal die Here van die leërskare wees tot ‘n sierlike kroon en ‘n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk” (Jes. 28:5). Dit is ‘n duidelike verwysing na gebeurtenisse wat in die komende dag van die Here sal plaasvind.

‘n Huweliksverhouding

God vergelyk sy verhouding teenoor Israel met dié tussen ‘n man en sy vrou: “Want jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word. Want soos ‘n verlate vrou en ‘n bedroefde van gees het die Here jou geroep, en soos ‘n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God. Vir ‘n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader. In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm ek My oor jou, sê die Here, jou Verlosser” (Jes. 54:5-8).

Die geestelike band tussen God en Israel verduidelik waarom God se Seun mens geword het in die koninklike geslag van Israel. Jesaja sê: “Want ‘n Kind is vir ons [Israel] gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God” (Jes. 9:5).

Nie lank voor die vervulling van hierdie profesie nie het die engel van die Here aan Maria verskyn en gesê: “En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee... Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Luk. 1:31-35).

Die simboliek wat gebruik word om Israel geestelik as die vrou van die Vader te beskryf, word ook aangewend om die Nuwe Testamentiese kerk as die bruid (en later die vrou) van die Lam voor te stel (vgl. 2 Kor. 11:2; Op. 21:9). Dit help ons om die identiteit van die getroude vrou met die kind in Openbaring 12 korrek vas te stel. Sy is Israel en beslis nie die kerk nie. Johannes sê: “Sy het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon” (Op. 12:5). Jesus het ná sy eerste koms na die hemel opgevaar, maar Hy sal spoedig in mag en majesteit terugkeer om die nasies te oordeel en hulle met ‘n ysterstaf te regeer.

Israel, die “vrou” van die Vader, het geestelik ontrou teenoor haar Verlosser geraak, sy is onder die nasies verstrooi en Jerusalem is vernietig. Nou, in die eindtyd, word Israel in hulle land herstel as ‘n voorspel tot hulle loutering en geestelike herlewing. Haar verhouding met God sal volkome herstel word. “En in dié dag, spreek die Here, sal jy My noem: My man; en jy sal My nie meer noem: My Baäl nie. Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie” (Hos. 2:15-16).

Israel sal nooit weer struikel of terugval nie: “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees” (Jes. 66:22; vgl. Jer. 30:11).

Bid vir Israel en Jerusalem

Alle Christene moet die baie beloftes wat aan Israel gemaak is, in die geloof aanvaar en volhardend vir die vervulling daarvan bid. Seën Israel deur die Messias aan hulle te verkondig, en word deel van God se plan van herstel vir sy uitverkore volk en hulle land.

“Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos ‘n glans en sy heil soos ‘n fakkel wat brand. En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou heerlikheid; en jy sal met ‘n nuwe naam genoem word wat die mond van die Here sal noem. En jy sal ‘n sierlike kroon wees in die hand van die Here en ‘n koninklike tulband in die hand van jou God. Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie...

“O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde! ... Kyk, die Here laat dit hoor tot by die einde van die aarde: Sê aan die dogter van Sion: Kyk, jou heil kom; kyk, sy loon is by Hom en sy beloning voor sy aangesig. En hulle sal genoem word: die heilige volk, die verlostes van die Here; en jy sal genoem word: die begeerde, die stad wat nie verlaat is nie”(Jes. 62:1-12).

Verkondig jy ook hierdie toekomstige koninkryksbeskouing? Bid jy vir die redding van Israel en die wonderlike herstel van Jerusalem as die hoofstad van die wêreld en setel van die Messias se regering van geregtigheid? Indien wel, dan het jy alle rede om bly te wees omdat die Heilige Gees aan jou die regte begrip vir toekomstige dinge gegee het (Joh. 16:13). Indien jy egter ‘n mensgemaakte koninkryk gedurende die kerkbedeling nastreef, is jy uit voeling met Bybelse profesieë en op pad na ‘n groot ontnugtering.

Ons is tans midde-in ‘n tydperk van groot geestelike verval, en dit berei die weg vir die openbaring van die Antichris voor. Hy sal as ‘n valse vredevors op die toneel verskyn om die mensdom verder te mislei en in die strukture van sy Babiloniese nuwe wêreldorde te verenig. Ons moet hierdie ontwikkelinge in die wêreld teëstaan en ons voorberei vir die wegraping, wat God se voorsiening vir die regverdiges is om die komende verdrukking met al sy oordele oor die goddeloses te kan ontvlug. Die belofte is duidelik: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Van dooie formalisme na ‘n lewende geloof

‘n Ernstige en baie toepaslike boodskap aan Israel en al die nie-Joodse gelowiges is dat ons ons geloof moet ondersoek (vgl. 2 Kor. 13:5). God het deur die profeet Jesaja aan Israel gesê: “Hierdie volk kom nader met hulle mond en eer My met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is” (Jes. 29:13). Hulle het nie ‘n ware geloof in God gehad, wat die enigste grondslag vir ‘n verhouding met Hom is nie. In plaas daarvan het hulle die wettiese gebruike nagevolg wat deur hulle geestelike leiers voorgeskryf is. Hulle godsdiens het gou ‘n blote tradisie geword wat nie hulle harte geraak of hulle lewens verander het nie.

Baie eeue ná Jesaja se profesieë het die Here Jesus dieselfde beswaar teen Israel se dooie formalisme herhaal (Matt. 15:8-9). Hy het gesê dat al hierdie aktiwiteite tevergeefs was omdat mense se harte koud, ongered en onveranderd gebly het. Die rabbi’s het dit tot ‘n fyn kuns ontwikkel om godsdienstige wette en rituele op mense af te dwing om aan hulle ‘n valse vorm van godsdienstige sekuriteit te verleen: “Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas... Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Mark. 7:8-9).

Ons moet ‘n lewende geloof hê, ongeag of ons Jode of nie-Jode is. Die Here Jesus het aan sy dissipels gesê: “Glo in God, glo ook in My... Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:1,6). Ortodokse Jode kan nie met God versoen word as hulle aanhou om Jesus as Messias te verwerp nie, want net Hy is Israel se vrede, verlossing en heiligmaking.

Toe Johannes die Doper vir Jesus aan Israel voorgestel het, het hy gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Israel behoort die groot betekenis van hierdie stelling te kon begryp het, aangesien hulle vir eeue lank lammers en ander diere geoffer het. Hierdie skaduagtige gebruike was slegs voorbereidend omdat hulle almal op die eenmalige offer van die vlekkelose Lam van God aan die kruis gedui het.

Paulus het die Jode daaraan herinner dat die wet slegs ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, “want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem” (Heb. 10:1,4). Hy het altyd na die onskatbare offer van Christus verwys: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). Petrus het aan sy mede-Joodse gelowiges gesê dat hulle “losgekoop is... deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19).

Jesaja het een van die mees betekenisvolle hoofstukke in die Ou Testament oor die lyding van die Messias geskryf. Hoofstuk 53 is so ‘n duidelike beskrywing van die Messias se dood om vir die sondes van sy volk versoening te doen, dat dit feitlik onmoontlik is om nie die letterlike vervulling daarvan in die lyding en dood van Jesus te sien nie. ‘n Groot aantal Jode het Jesus as Messias aangeneem nadat hulle Jesaja 53 gelees en dit dan met die weergawe van die kruisgebeure in die Evangelies vergelyk het. Rabbi’s is so ontsteld oor hierdie profesieë dat hulle nie Jesaja 53 in die sinagoges lees nie, uit vrees dat die Jode dalk mag besef dat dit inderdaad in die lewe van Jesus van Nasaret vervul is. Die volgende is die kernstellings in hierdie hoofstuk:

“Hy [die Kneg van die Here] was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

“Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders... Wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom. En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie...  Hy het sy siel uitgestort in die dood en is saam met die oortreders getel, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het” (Jes. 53:3-12).

Die Messias is die enigste deur na die koninkryk van God omdat net Hy die sondes van mense kan vergewe nadat Hy die doodstraf vir almal van ons se oortredings uitgedien het. Dit was ondeurgrondelike wysheid van God om ‘n verlossingsplan te bedink wat só algenoegsaam en volmaak is dat dit aan al die eise van sy geregtigheid voldoen om sonde met die dood te straf (vgl. Eseg. 18:4,20; Rom. 6:23), sonder om op enige wyse die grenslose genade en vergewensgesindheid wat Hy aan alle sondaars bied, buite ons bereik te plaas.

Hoe absoluut noodsaaklik was dit nie dat Jesus eers as die lydende Kneg na die wêreld moes kom om vir die verlossing van die mensdom voorsiening te maak nie. In sy groot liefde en reddende genade het God feitlik twee millennia vir die verkondiging van hierdie lewegewende boodskap aan alle mense op aarde toegelaat – insluitend die verstrooide Jode. Noudat Israel na hulle godgegewe land terugkeer, het die tyd vir goddelike vergelding gekom. Jesaja sê: “Kyk, die Here sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; Kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig” (Jes. 40:10). In Openbaring 22:12 sê die Here Jesus: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”

Die diensknegte van die Here sal beloon word, maar sy vyande sal geoordeel word omdat hulle so ‘n groot saligheid verontagsaam het: U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Op. 11:18).

Gedurende die kerkbedeling is die koninkryk van God in ons harte verborge omdat dit nie van hierdie wêreld is nie. Wanneer die Messias weer kom, sal die koninkryk van die hemel ten volle geopenbaar en op aarde gevestig word. Die goddeloses sal geoordeel word, die Antichris en valse profeet sal verdelg word, Satan en sy demone sal vir 1000 jaar lank in ‘n put gebind word, ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies sal gered word, en die ware kerk sal in hulle verheerlikte liggame saam met Christus regeer.

Jesaja sluit sy profesieë af met ‘n visioen van ewige heerlikheid vir die gereddes en ewige veroordeling vir die goddeloses (Jes. 66:22-24). God dwing niemand om Jesus as Verlosser aan te neem nie, maar Hy sal alle mense aanspreeklik hou vir die keuses wat hulle gemaak het.

Die eindtydse konfrontasie tussen twee koninkryke

Satan weet dat die koninkryk van God onder die leierskap van die Messias in al sy uitnemendheid op aarde geopenbaar sal word, en dat die geredde Israel en die verheerlikte kerk ‘n groot rol daarin sal speel. Hy stel alles in werking om die openbaring van God se koninkryk voor te spring of selfs te voorkom. Hy doen dit deur aan die mensdom ‘n Babiloniese nuwe wêreldorde te bied waarin daar vir ‘n wêreldregering, ‘n wêreldgodsdiens en ‘n wêreldekonomie voorsiening gemaak word. Hy gebruik tans die ideologie van globalisme om strukture vir sy nuwe wêreldorde te skep. Die ekumeniese beweging is een van sy belangrike medewerkers omdat hulle brûe tussen die verskillende kerke en godsdienste bou, en sodoende die weg vir die koms van die kosmiese christus van alle gelowe berei. Die opkomende kerk van die 21ste eeu is deel van hierdie antichristelike beweging omdat hulle die kerk ten koste van Israel in God se koninkryk verhef, en ook op ‘n aanmatigende wyse groot geestelike magte opeis om hulle beweging in ‘n beherende posisie in die wêreld te plaas.

Wanneer die kosmiese christus skielik as ‘n vredevors sy verskyning maak, sal hy in verwondering deur die internasionale gemeenskap van die eindtyd nagevolg word. Hulle sal hom ook as hulle messias aanbid wat na bewering ‘n derde wêreldoorlog afgeweer het deur  alle nasies op ‘n vreedsame wyse by sy nuwe wêreldorde te betrek (Op. 13:3-4). Hulle sal verenig agter hom staan.

Soos wat die tyd verder binne die raamwerk van sy sewe jaar lange verbond verloop (vgl. Dan. 9:27), sal die Antichris sy posisie konsolideer en ‘n baie sterk militêre mag opbou. Hy sal genadeloos teenoor alle opposisie optree en ook Israel se grootste vyand word nadat hulle hul verbond met hom verbreek het omdat hy die tempel ontheilig het deur ‘n beeld van hom in die Allerheiligste te plaas en homself tot God te verklaar (Matt. 24:15-22; 2 Thess. 2:4; Op. 13:15).

Die Antichris sal uit Bybelse profesieë weet dat die ware Christus uit die hemel sal kom om Satan se nuwe wêreldorde en sy leiers te vernietig en daarna die koninkryk van die hemel op aarde te vestig. Hierdie vrees sal die belangrikste rede wees waarom hy ‘n multinasionale mag sal mobiliseer om in en om Jerusalem teen Christus en sy hemelse leër te veg: “En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit” (Op. 19:19-21; kyk ook Sag. 14:12-13).

Nadat al die goddeloses uitgeroei is, sal Christus sy duisendjarige vrederyk op aarde vestig. Ware geregtigheid en groot vrede sal die belangrikste kenmerke van die Messias se koninkryk wees. Jesaja het aan Israel gesê: “Al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees. Deur geregtigheid sal jy bevestig word; wees ver van verdrukking en... verskrikking, want dit sal nie by jou kom nie” (Jes. 54:13-14).

Jesaja het ‘n duidelike begrip van God se eindtydse program gehad, insluitend die hoë geestelike standaard wat Hy van sy volgelinge in Israel én onder die nasies verwag. Hierdie kennis ontbreek ongelukkig by die meeste Christene en verklaar die verkeerde idees wat die meeste van hulle oor God se koninkryk huldig.

‘n Onbybelse koninkryksvisie

Dit is jammer dat so baie Christengelowiges die belofte van ‘n letterlike duisendjarige vrederyk van Christus op aarde verwerp. As gevolg van hierdie gebrek in hulle profetiese verwagting ondersteun hulle die koninkryk-nou beweging wat op misleiding gebaseer is. Die volgende is sommige van die foutiewe uitgangspunte van hierdie beweging, wat almal uit die Bybel weerlê kan word:

  • Hulle aanvaar die vervangingsteologie waarin die kerk die plek van Israel inneem. Hulle neem alle beloftes van toekomstige seëninge aan Israel oor, maar ignoreer die waarskuwings oor oordele soos die tyd van benoudheid vir Jakob (die verdrukking). Die kerk kan egter nie vir Israel vervang in God se plan vir die nasies nie. Die kerk kan ook nie op koninkryksbeloftes aanspraak maak wat duidelik op die tydperk ná die Messias se wederkoms van toepassing is nie, want die land Israel is nooit aan die kerk belowe nie.
  • Hulle erken nie ‘n duidelike koninkryksdispensasie wat op Christus se wederkoms na die aarde sal volg nie, en is dus amillennialisties (antichiliasties). Hulle verkies toenemend om die posisie van postmillennialisme in te neem, omdat hulle besig is om die kerkbedeling na ‘n tipiese koninkryksbedeling te transformeer. Aan die einde van die koninkryksbedeling wat hulle nou besig is om te vestig, sal Christus, volgens hulle, kom om Bybelse profesieë finaal te vervul en af te sluit. Dit is egter onmoontlik om die kerkbedeling as die vervulling van die koninkryksbedeling met al sy beloftes in die Bybel te sien, en om hierdie rede gee hulle nie baie aandag aan ‘n studie van Bybelse profesie nie – hulle allegoriseer die meeste daarvan.
  • Hulle is by só ‘n sterk beweging betrokke om eenheid en harmonie op aarde te vestig dat hulle nie alleen bereid is om Christelike ekumene te ondersteun nie, maar selfs ook intergeloofsekumene. Hulle sien samewerking tussen alle godsdienste as die enigste pad vorentoe om vrede en samewerking te bevorder en konflik uit te skakel. Die Bybel waarsku ons egter teen alle vorms van intergeloofsbande (2 Kor. 6:14-18), en laat nie eers ‘n assosiasie met nominale Christene toe wat van die waarheid afgewyk het nie (2 Tim. 3:5). Johannes noem die ekumeniese beweging “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Op. 17:5).
  • Hulle is sterk teen Christelike fundamentalisme gekant omdat dit in die pad staan van samewerking met mense van ander oortuigings. Bybelse waarhede word skaamteloos verdraai om by hulle koninkryksvisie aan te pas. Selfs die godheid van Jesus word bevraagteken of ontken. Hulle eindig by die verkondiging van ‘n ander Jesus en ‘n ander evangelie onder die leiding van ‘n ander gees (2 Kor. 11:4). Hierdie “ander gees” dring nie op Bybelse waarhede en Bybelse moraliteit aan nie en het geen probleem daarmee om verskillende vorms van immorele gedrag te verskoon nie, insluitend homoseksualiteit.
  • Hulle het godsdiens reeds tot só ‘n mate gesekulariseer dat dit een van hulle belangrikste doelwitte is om met regerings en die sake-sektor saam te werk om harmonie, vrede, voorspoed en eenheid in alle samelewings te skep. Hulle streef veral daarna om goeie menseverhoudings te bevorder, asook ‘n goeie lewenskwaliteit vir almal. Baie min of geen aandag word aan die mens-God-verhouding gegee nie, en dit bring mee dat die hele beweging hoofsaaklik humanisties van aard is. In ‘n sekere sin bou hulle ‘n moderne toring van Babel waardeur die mens sy eie God en die bepaler van sy eie lotgevalle word. Magtige profete en apostels staan gereed om beheer oor die beweging oor te neem.
  • Hulle is sterk daarop ingestel om menslike potensiaal tot sulke hoogtes te ontwikkel dat mense volle selfverwesenliking in hierdie bedeling kan bereik – selfs tot op die vlak waarin hulle klein godjies kan word. Tekens en wonders moet algemeen voorkom, en gebruik word om mense aanhoudend na wonderwerke te laat soek sodat hulle soveel as moontlik uit die lewe kan kry. Armoede en siekte word gesien as tekens van ‘n swak geloof en derhalwe as onaanvaarbare ondervindings afgemaak.
  • Hulle is só erg aan die humanistiese ideologie van positiewe denke uitverkoop dat hulle nie eers ‘negatiewe’ begrippe soos die oordele, sondaars, geestelike misleiding, valse apostels, ens., in oorweging neem nie. Hulle verkondig almal ‘n nie-veroordelende evangelie waarin daar na niemand as sondaars verwys word nie. In sy boek Today and Tomorrow (bl. 97) sê John Haupt: “Die rede waarom dominioniste [koninkryksteoloë] so lief is om allegoriese verklarings vir Bybelse profesieë te vind, is omdat hulle ‘n weersin in ‘negatiewe’ verse in die Bybel het wat aandui dat toestande gaan versleg namate ons die einde van hierdie bedeling nader. Hulle vergeestelik hierdie tekste weg... Christene wat aanhangers van positiewe denke, positiewe belydenis en die motiverende wetenskappe is, word sterk aan die leer van rekonstruksionisme blootgestel. Selfs ‘n jong gelowige met min onderskeidingsvermoë behoort in staat te wees om die verskil te kan insien tussen die ou evangelie van hoop en die nuwe evangelie van onrealistiese optimisme wat deur die koninkryk-nou beweging verkondig word. Sir John Lubbock het by geleentheid gesê: ‘Wat ons sien word hoofsaaklik bepaal deur dit waarvoor ons op die uitkyk is’.”

Ten einde hulle koninkryksvisie te substansieer, haal koninkryk-nou teoloë dikwels Ou Testamentiese profesieë aan wat beloftes oor Israel se posisie in die Millennium is. Baie van Jesaja se profesieë oor Israel se toekomstige status nadat hulle met die Messias versoen is, word verkeerdelik op die kerkbedeling toegepas. Probleme van hierdie aard spruit uit mense se onvermoë of onwilligheid om volle erkenning aan Israel te gee, en die Bybel in sy korrekte dispensasionele verband te verklaar. Op hierdie manier word daar vir ‘n menslike agenda plek gemaak ten koste van God se plan met Israel, die kerk en die nasies.

Watchman Nee 17