Print

Soendood van die Lam van God

Written by Prof Johan Malan.

Dit is belangrik om duidelikheid te verkry oor die tyd en omstandighede van die Here Jesus se soendood net buite Jerusalem op Goeie Vrydag, byna 2000 jaar gelede. Die historiese gebeurtenis sowel as die diep geestelike betekenis van die kruisiging moet duidelik verstaan word. Ons moet eerstens die drie dae tussen die kruisiging en opstanding van Christus in hulle korrekte historiese verband plaas.

Die Here Jesus vergelyk sy begrafnis en opstanding uit die dood met die ondervinding van Jona: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matt. 12:40). In Jona 1:17 staan daar: “...en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.” John Hanna (1985:1467) sê die volgende hieroor: “Die uitdrukking ‘drie dae en drie nagte’ dui nie noodwendig 'n periode van 72 uur aan nie, omdat dit een dag en gedeeltes van twee ander dae kan wees.” Vergelyk in hierdie verband ook Ester 4:16 en 5:1, waar Ester 'n vastyd van drie dae en drie nagte beveel het, maar op die derde dag, voordat die dag verby was, het sy reeds haar doel met die vas bereik.

Sommige mense het 'n probleem met die siening dat Jesus nie drie volle dae en nagte (m.a.w. 72 uur) in die graf was nie, en wend pogings aan om sy kruisiging van die Vrydag af na die Woensdag te vervroeg. Die feit is egter dat die Jode inklusiewe tydrekening beoefen waarin 'n gedeelte van 'n dag ook as 'n volle dag beskou word. Louis Barbieri (1983:47) sê die volgende oor Matthéüs 12:40: “Aangesien die Jode 'n deel van 'n dag as 'n vol dag beskou het, sou die 'drie dae en drie nagte' kon inhou dat die kruisiging Vrydag was.” In 'n addendum tot die Strong’s konkordansie, Harmony of the Gospels, word 41 gebeurtenisse wat plaasgevind het gedurende die week van Jesus se kruisiging, vanaf sy intog in Jerusalem tot met sy kruisiging en begrafnis, saam met Skrifverwysings gelys (Strong, 1990). Hierdie opeenvolging van gebeure bevestig bo alle twyfel dat Hy op 'n Vrydag gekruisig is.

Volgens die Bybel, asook ander ondersteunende bronne, is Jesus die Vrydagmiddag kort voor die aanbreek van die Sabbat begrawe, en het Hy vroeg op die eerste dag van die volgende week (Sondag) opgestaan. Die dag waarop Hy gekruisig is (Vrydag), was dus die eerste dag van die Paasgebeure, Saterdag (die Sabbat) was die tweede dag, en Sondag (sy opstandingsdag) die derde dag. In die Joodse chronologie word só 'n tydperk as “drie dae en drie nagte” beskryf, of bloot net as “drie dae.” Joodse dae strek vanaf sononder tot sononder. Die derde dag ná die kruisiging het dus die Saterdagaand teen sononder al begin.

Die Emmausgangers bevestig hierdie feite. Die dag toe Jesus opgestaan het (die Sondag), was hulle op pad na Emmaus (Luk. 24:13). Onbewus daarvan dat Jesus self by hulle aangesluit het, vertel hulle van die gebeure rondom sy kruisiging wat vroeg die Vrydagoggend begin het, en voeg by: “Ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel toe hulle vroeg by die graf was; en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle ook gekom en gesê dat hulle 'n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe” (Luk. 24:21-23). Sondag was dus die derde dag sedert die kruisiging van Jesus, wat die vorige Vrydag plaasgevind het.

Op hierdie Sondagmiddag, die derde dag, toe die Emmausgangers met Jesus gepraat het, het Hy etlike ure vroeër reeds uit die graf opgestaan: “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdalena vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was” (Joh. 20:1). Nadat Jesus met die Emmausgangers in gesprek was het Hy, nog steeds op die dag van sy opstanding, ook aan sy dissipels verskyn (Joh. 20:19).

Jesus was dus net 'n gedeelte van die derde dag in die graf, net soos wat Hy slegs 'n gedeelte van die voorafgaande Vrydag in die graf was. Die Jode ag dit nietemin as drie dae en nagte, al is net gedeeltes daarvan ter sprake. Die Emmausgangers se gesprek skakel alle spekulasie oor 'n vroeëre dag vir die kruisiging uit. Indien Christus Woensdag (die vierde dag van die week) gekruisig en begrawe is, dan sou dit op die volgende Sondag al reeds die vyfde dag gewees het sedert dit gebeur het, maar hierdie manne sê duidelik dat dit “die derde dag” was!

Joodse tydrekening

Omdat 'n gedeelte van 'n dag in inklusiewe tydrekening as 'n volle dag beskou word, kan 'n week (bv. van Woensdagmiddag af tot die volgende Woensdagmiddag) ook as agt dae beskryf word omdat altwee Woensdae as volle dae getel word. Die loofhuttefees in Israel word vir ‘n week lank, van die 15de tot die 22ste dag van hulle sewende maand gevier: “Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here. Op die eerste dag moet daar 'n heilige vierdag wees... Sewe dae lank moet julle aan die Here 'n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle 'n heilige vierdag wees” (Lev. 23:34-36). Die laaste dag van hierdie week, naamlik die agtste dag, was die groot dag van die fees (vgl. Joh. 7:2,37).

In Levítikus 23 staan daar die volgende oor die fees van die 50ste dag: “Dan moet julle tel van die dag ná die Sabbat... sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende Sabbat moet julle vyftig dae tel” (Lev. 23:15-16). Hierdie 49 dae tussen 'n Sondag en 'n ander Sondag sewe weke later, word 50 dae genoem omdat die eerste en laaste Sondae beide as volle dae getel word. In die Nuwe Testament is hierdie twee feeste vervul tydens die opstanding van die Here Jesus op 'n Sondag en die uitstorting van die Heilige Gees sewe weke later, ook op 'n Sondag. “Pinkster” beteken “Vyftigste” – dit is die fees van die vyftigste dag.

Die Ou Testamentiese fees van die eerste vrugte is op sy regte tyd in die Nuwe Testament vervul, naamlik op die Sondag waarop dit begin het en die Sondag waarop dit sewe weke later afgesluit is. Let op die duidelike bepalings vir albei feeste: “...die dag ná die Sabbat.” Sondag is die eerste dag van 'n nuwe week, of dispensasie, in God se raadsplan vir die mens. In die huidige bedeling word die opstanding van Jesus spontaan elke week op Sondae as die dag van die Here gevier.

Die fees van die eerstelingsgerf in Levítikus 23 is die vroegste aanduiding in die Ou Testament van 'n toekomstige Sondagviering as 'n Christusfees. Op dié dag verkondig ons die boodskap: “Hy het opgestaan – Hy leef!” Jesus self het op die Sondag van sy opstanding die eerste preek van die nuwe bedeling gelewer, asook 'n week later, weer op 'n Sondag, die tweede een (Joh. 20:19-29). Daarna het die dissipels gereeld op Sondae bymekaargekom (vgl. Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:1-2). Die uitstorting van die Heilige Gees as die geestelike toerusting vir wêreldevangelisasie, het ook op 'n Sondag plaasgevind.

Die kruisiging van die Here Jesus op Goeie Vrydag, sy opstanding drie dae later op 'n Sondag, asook die uitstorting van die Heilige Gees op 'n Sondag, is kerndatums op die Christelike kalender. Sy hemelvaart het op 'n Donderdag plaasgevind, 40 dae ná sy opstanding en tien dae voor die uitstorting van die Heilige Gees.

Die kruisigingsdatum volgens Daniël

In Daniël 9:24-27 word daar 'n duidelike profesie oor die tyd van die Messias se kruisiging gegee, waaruit dit blyk dat Hy aan die einde van die 69ste jaarweek gekruisig is – dit was op 'n Vrydag. In hierdie profesie word van profetiese jare van 360 dae elk gebruik gemaak, waarin elke maand 30 dae het (vgl. Op. 11:2-3, waar 42 profetiese maande presies 1260 dae lank is).

Daar het 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 v.C. aan Nehemía toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh. 2:1-8), tot met die kruisiging van die Messias op 14 Nisan 32 n.C. Prof. J.M. Schepers van die Randse Afrikaanse Universiteit het in 'n artikel (1984) daarop gewys dat 483 profetiese jare van 360 dae elk, 'n totaal van 173 880 dae verteenwoordig. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op die Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke dus tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop, en is beëindig op die Vrydag waarop die Here Jesus gekruisig is.

Die Pasga

Die vervulling van die Ou Testamentiese Pasga was met die kruisiging van die vlekkelose Lam van God wat in die volheid van die tyd mens geword het om vir ons sy lewe af te lê. Johannes die Doper het na Hom gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Petrus het ook na die onberekenbare offer van hierdie Lam verwys toe hy gesê het: “…julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). Sonder bloedvergieting is daar geen vergifnis nie (Heb. 9:22).

Weens die tipologiese aard van die Pasga as 'n heenwysing na die offer van die Lam van God, was dit duidelik dat hierdie fees tydens een van die toekomstige vierings daarvan vervul sou word. Die Here Jesus is inderdaad op die dag van die Pasgaviering gekruisig. Volgens Markus 14:1-2 wou die Jode só 'n situasie vermy: “En die Pasga… sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien 'n oproer onder die volk kom nie.”

Die Jode kon egter nie daarin slaag om die stiptelike vervulling van hierdie fees te voorkom nie, en Jesus is op Vrydag die 14de Nisan (11 April 32) gekruisig. Hy het op die negende uur (3 nm.) die asem uitgeblaas (Mark. 15:34-37), op presies dieselfde uur toe die lam tydens die eerste Pasga in Egipte geslag is. Pilatus was verwonderd dat Jesus so gou gesterf het, en het toestemming vir sy begrafnis verleen (Mark. 15:42-45). Dit is nog voor die Vrydagaand 6-uur afgehandel toe die Sabbat sou begin en niemand dan begrawe kon word nie (Luk. 23:52-54; Joh. 19:31).

Ons lees die volgende oor die kruisigingsdag in Markus: “En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat, kom daar 'n vername raadslid, Josef van Arimathéa… om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra” (Mark. 15:42-43). John Grassmick (1983:191) sê die volgende oor dié teks: “Jesus se begrafnis het amptelik sy dood bevestig. Die uitdrukkings voorbereiding en voorsabbat is tegniese terme vir Vrydag wat op die dag voor die Sabbat dui, soos wat Markus aan sy nie-Joodse lesers verduidelik. Omdat daar geen werk op die Joodse Sabbat gedoen mag word nie, is al die voorbereidings daarvoor op Vrydae gedoen. Hierdie verwysing bevestig die feit dat Jesus op 'n Vrydag gekruisig is.”

Vrydag (die Voorsabbat, of Dag van Voorbereiding) en Saterdag (die Sabbat) is die enigste twee dae in die Joodse week wat spesifieke name het. Die ander dae word bloot genommer, bv. die eerste dag van die week (Sondag), die tweede dag (Maandag), ens. Indien 'n godsdienstige fees soos die Pasga (14 Nisan) op enige weeksdag gevier word, word hierdie dag wel soos 'n Sabbat gevier, maar nie self 'n Sabbat genoem nie; die Sabbat is die sewende dag van die week. Ons kan ook vandag godsdienstige feeste, en selfs Geloftedag, soos 'n Sondag vier – maar dit beteken nie dat die dag self 'n Sondag word nie.

Jesus se kruisiging op die Dag van Voorbereiding (Vrydag), blyk duidelik uit Johannes 19: “En dat die liggame nie op die Sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit voorbereiding was – want die dag van daardie Sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word... maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom” (Joh. 19:31-34). Die Sabbat wat direk gevolg het op die Dag van Voorbereiding en Christus se kruisiging, word as 'n groot dag beskryf omdat dit tegelyk die weeklikse Sabbat en die belangrike eerste dag van die fees van die ongesuurde brode was.

Lukas bevestig ook die feit van Jesus se begrafnis op die Dag van Voorbereiding: Jesus se liggaam “is in linne toegedraai en neergelê in 'n graf wat uit 'n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die Sabbat wou aanbreek” (Luk. 23:53-54). Die Sabbat wat op die punt was om teen sononder daardie aand aan te breek, was sonder enige twyfel die weeklikse Sabbat. Indien dit die Pasga was wat sou aanbreek, dan beteken dit dat Hy 'n dag voor die Pasga-fees gekruisig is en dat die Pasga nie dag en datum vervul is nie. Hy is juis op die feesdag gekruisig, die dag toe die slag van die offerlam in Egipte die begin van Israel se uittog uit slawerny was.

Laat ons onwrikbaar aan die belydenis van Christus se soendood en opstanding vashou, ongeag op watter spesifieke datums dit gebeur het. Dit is nogtans goed om konkrete historiese verwysingspunte vir hierdie belangrike gebeurtenisse te hê.

Die teken van Jona

Ons moet nie die teken van Jona net tot die begrafnis en opstanding van Christus beperk nie, maar ook kyk na dit wat ná Jona se bevryding uit die buik van die vis gebeur het. Hy het 'n boodskap van verlossing vir die heidense stad, Ninevé, gehad. Hierdie mense het hulleself in sak en as bekeer van hulle verkeerde weë en die Here om genade gesmeek. As gevolg hiervan is die toorn van die Here van hulle afgewend (Jona 3:1-10). Die Here het nie berou gehad in die sin dat Hy 'n verkeerde besluit oor Ninevé se verwoesting herroep het nie, maar die inwoners se bekering het hulle begenadiging deur Hom verseker (Jona 3:10). Die  inwoners se bekering het God se oordeel oor hierdie stad vir omtrent 150 jaar lank uitgestel. Later geslagte het weer in sonde en rebellie teenoor die Here verval, wat meegebring het dat die stad en sy inwoners in 612 v.C. verwoes is. Die Here het in 'n boodskap deur die profeet Nahum aan hierdie stad gesê:

“Ek sal vuilgoed op jou gooi en jou aan minagting prysgee en van jou 'n skouspel maak, sodat elkeen wat jou sien, van jou af sal wegvlug en sê: Verwoes is Ninevé! Wie sal met haar medelye hê? ... Daar sal die vuur jou verteer, die swaard jou uitroei... Daar is geen herstel vir jou verbreking nie; jou wond is ongeneeslik” (Nah. 3:6,7,15,19).

Ná die dood en opstanding van Jesus Christus moet die boodskap van God se toorn oor die sondaars, én van sy reddende genade oor dié wat hulle van harte bekeer, verkondig word: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Joh. 3:36).

Wat is die voorwaarde om in God se guns te kom? Ons moet in die soendood van sy Seun aan die kruis glo, en ons volkome van ons sondige verlede bekeer. Dit is die boodskap wat aan die wêreld verkondig moet word. Net voor sy Hemelvaart het Jesus aan sy dissipels gesê: “So is dit geskrywe en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies” (Luk. 24:46-47).

In die afgelope byna 2000 jaar was daar al verskeie gemeenskappe, en selfs lande, waar die evangelie van Christus aanvaar, Christelike grondwette ingestel, en Christelike norme oor 'n breë front in die samelewing ingestel en eerbiedig is. Soos in die geval van Ninevé ná hulle nasionale bekering, het die seën van die Here kennelik op dié gemeenskappe en volke gerus.

Hierdie goeie tye het egter nie onbepaald voortgeduur nie. Dit was nie omdat God ontrou geraak het nie, maar omdat die opkomende geslagte weer in sonde en openlike rebellie teen Hom verval het. Christelike grondwette is herroep en deur humanistiese grondwette vervang waarin alle godsdienste gelykgestel word. Daarmee saam is Christelike norme ook verwerp en het dit die deur wyd oopgemaak vir antichristelike gebruike soos leuens, korrupsie, materialisme, afgodediens, hoerery, aborsie, homoseksualiteit, dronkenskap, gewelddadigheid, en 'n horde ander euwels. Dinge wat vroeër as 'n skande beskou is, word nou openlik bedryf.

Wat anders kan 'n verdorwe wêreld te wagte wees as die oordele van God? Almal wat hulleself nie grondig tot die Lam van God bekeer nie, sal die voorwerpe van sy toorn wees en deur Hom geoordeel word: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy 'n dag bepaal het waarin Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31).

Glo jy met jou hele hart in die gekruisigde en verrese Here Jesus, en is die fondament van bekering uit dooie werke en van geloof in God reeds in jou lewe gelê? (Heb. 6:1). Indien wel, dan sal jy die uitstorting van God se toorn in die komende verdrukking ontvlug (Luk. 21:36). Die gelowiges in Thessaloníka het hulleself “bekeer tot God om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:9-10).

Diegene wat 'n valse, mensgemaakte vrede buite Christus nastreef, sal die wegraping misloop en onverwags deur die oordele van God oorval word: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval 'n skielike verderf hulle... en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Dié wat waarlik glo en as dissipels van Christus heilig leef, sal waak en bid sodat hulle waardig kan wees om die oordele van die komende verdrukking te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36).

Ons ontvlugting is gebaseer op die verlossingswerk wat die Here Jesus op Goeie Vrydag aan die kruis gedoen het, daar waar Hy die straf wat vir ons die vrede aanbring, op Homself geneem het (Jes. 53:5). Laat ons op hierdie pad volhard, “want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Laat ons nie, soos die inwoners van Ninevé, ná ‘n tyd weer in goddeloosheid verval nie.

Verwysings

Barbieri, Jr., Louis A. 1983 : Matthew. In: Walvoord, John F. & Zuck, Roy B. (reds.): “The Bible Knowledge Commentary – New Testament.” Victor Books.

Grassmick, John D. 1983 : Mark. In: Walvoord, John F. & Zuck, Roy B. (reds.): “The Bible Knowledge Commentary – New Testament.” Victor Books.

Hannah, John D. 1985 : Jonah. In: Walvoord, John F. & Zuck, Roy B. (reds.): “The Bible Knowledge Commentary – Old Testament.” Victor Books.

Schepers, J.M. 1984 : Die kruisigingsdatum van Jesus eeue tevore geprofeteer. Die Basuin, Vol. 1.04.

Strong, James 1990 :  The New Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible. Thomas Nelson Publishers.

AW Tozer 22