Print

Jesus Christus: Die Middelpunt van ons Bestaan

Written by Prof Johan Malan.

‘n Saligmakende geloof in Jesus Christus lei na ‘n grondige herskepping van ons lewe waarin die ou dinge verbygaan en alles nuut word (2 Kor. 5:17). ‘n Wesenlike deel van hierdie verandering is ‘n nuwe uitkyk op die lewe wat na ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing lei. Die totale werklikheid waarin ons leef, kry uit ‘n Christelike oogpunt nuwe betekenis – die skepping van die heelal, die wese van die mens, die redes vir sy verdorwenheid, die werklikheid van ‘n opponerende koninkryk van die duisternis, die vernuwende werk van Christus, asook die ewige verheerliking van die regverdiges en die ewige straf vir sondaars.

Jesus Christus is die Skepper van die wêreld, die magtige Verlosser en die enigste lig van ‘n geestelik donker wêreld. Hy is die begin van ons geestelike lewe en gelykvormigheid aan Hom is die hoogste doel waarna ons kan streef. Christus is die absolute middelpunt van die nuwe lewe wat Hy aan ons bied, want in Hom leef ons, beweeg ons, en is ons. Alle dinge moet in die lig van sy heiligheid, goddelike gesag, en ingryping in die lotgevalle van mense verklaar word. Hy het gekom tot ‘n val en opstanding vir baie mense, afhangende van of hulle Hom aanvaar of verwerp (Luk. 2:34). Ons moenie dieselfde fout maak wat die meerderheid Israeliete gemaak het, naamlik om blind te wees vir wie Jesus werklik is, en Hom gevolglik te verwerp nie:

“Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh. 1:9-12). Ons móét ‘n keuse omtrent Jesus Christus maak.

Die Here Jesus is die enigste Verlosser van die mensdom en het ‘n lewensbelangrike sending na ‘n verlore wêreld onderneem. Die lotgevalle van alle mense word deur hulle verhouding met Hom bepaal: “Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12). In Hom is waarheid, lig en lewe, en buite Hom is leuens, duisternis en die dood.

Ons kan die Here Jesus nie uit ons werklikheidsbeeld weglaat nie, want ons is óf sy volgelinge óf sy teëstanders. Alle mense het ‘n godgegewe gewete, wat ‘n basiese kennis van goed en kwaad is, en dit stel hulle in staat om morele keuses te maak. Kennis van die evangelie is nodig om sinvolle en lewensveranderende keuses op hierdie terrein te kan maak. Sonder die vryspraak en nuwe natuur van Christus sal ons nie die stryd teen die kwaad kan oorwin nie.

Afvallige teoloë wat weier om Jesus Christus se mag, goddelike attribute en die betekenis van sy kruisdood en opstanding te erken, weet intuïtief dat hulle teen die waarheid stry, maar gee nogtans toe aan die onbybelse gedagtes van hulle misleide harte. Hulle is duidelik daarop ingestel om die Here Jesus se aansprake te bevraagteken en te diskrediteer. Dit is dieselfde soort teologiese skeptisisme wat skrifgeleerdes van die eerste eeu ook tot hulle eie ondergang verkondig het toe hulle Jesus as Messias verwerp en lasterlike dinge oor Hom gesê het.

Dit is eienaardig dat moderne agnostici soveel tyd en energie bestee om ‘n saak te weerlê wat volgens hulle net mensgemaakte mites sonder enige substansie is. Moontlik word hulle deur intellektuele eiewaan gemotiveer om hulleself te verhef bo die Bybel as God se Woord, en dit dan te reduseer tot ‘n menslike geskrif wat vol foute, mitologie en teenstrydighede is. Nou veroorloof hulle hulself om ‘n “historiese Jesus” aan ons voor te hou wat, soos hulleself, net ‘n gewone mens met baie beperkings is. Dit kom neer op verraad teen goddelike openbarings, en vind ongetwyfeld aansluiting by die groot stryd wat in die geesteswêreld teen die Bybel gevoer word (2 Kor. 4:4; Ef. 2:2; 6:10-12).

Volgens Johannes is daar ‘n demoniese gees van dwaling aan die werk om die Bybelse Jesus op ‘n tipies postmoderne manier te dekonstrueer en Hom dan te vervang met ‘n ander Jesus wat volgens die Bybel die Antichris is (1 Joh. 2:18-23; 4:1-6). Paulus beklemtoon hierdie selfde dwaling ten opsigte van die vervalsing van die beeld van Jesus, asook die basiese boodskap van die Bybel, wat alles gebeur onder die beïnvloeding van verleidende geeste en leringe van duiwels (2 Kor. 11:2-4; 1 Tim. 4:1). Die Here Jesus het self ook gewaarsku teen die gevaar van vervalsers wat hulleself in sy naam as “die Christus” sal aanbied, en gesê dat dit veral kenmerkend van die eindtyd sal wees (Matt. 24:3-5).

Christus se ware dissipels is aan die regte kant van hierdie stryd, want hulle oë het oopgegaan vir die groot en wonderlike werklikheid van Jesus se Godheid. Hulle geloof vind aansluiting by dit wat Johannes in die eerste eeu gesê het toe hy besef het dat Jesus van Násaret die vervulling van al die Messiaanse beloftes in die Ou Testament is, en dat die Woord van God deur die Messias se koms lewendig geword het: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:14).

Die sentrale posisie wat die Here Jesus in die harte en lewens van alle gelowiges moet inneem, blyk uit die volgende 25 aspekte van sy Persoon en werke:

1. Die begin en einde van alle dinge

Ons aanbid die Drie-enige God, Elohim, wat bestaan uit die Vader, die Seun en die Heilige Gees, maar die Here Jesus word spesifiek die Skepper van die wêreld genoem: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Paulus sê: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele Skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemel en op die aarde is... Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:15-17). God het sy Seun “as erfgenaam van alles aangestel, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het” (Heb. 1:2).

Die Here Jesus is die begin van die skepping, Hy onderhou dit steeds, en sal dit uiteindelik weens die besmetting deur sonde vernietig, sodat Hy alles nuut kan maak. Dit is waarom Hy gesê het: “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste” (Op. 22:13). Ons kan nie in tyd of ruimte iets bedink wat buite die raamwerk van sy skeppingskrag, vernuwende werk en die planmatige vervulling van sy goddelike einddoel is nie.

Hoe pas jy by die raadsplan van God in? Jy kan óf een van die medewerkers in die uitbreiding van sy koninkryk wees, óf een van sy teëstanders wat deur Hom geoordeel gaan word. As jy jou lewe buite Christus beplan en lei, sal dit noodwendig in botsing met sy raadsplan wees en in rampspoed eindig. Alle mense gaan vir ewig lewe, daarom wag daar ook ‘n ewige straf op die sondaars. Almal se lewens gaan in die lig van ‘n goddelike maatstaf as goed of kwaad beoordeel word deur Hom wat was, wat is en wat kom.

2. Die Een wat alle mag in die hemel en op aarde het

Die Drie-enige God (Vader, Seun en Heilige Gees), wat alle mag in die hemel en op aarde het, het ‘n soewereine besluit geneem om mense na sy eie beeld te skape: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Gen. 1:26). Hy het aan die mens ‘n vrye wil gegee, asook die vermoë om morele keuses uit te oefen ten opsigte van goed en kwaad. Die mens kan dus óf streef na sy roeping van gelykvormigheid aan God se heiligheid, óf God se bevele minag, die rug op Hom en sy Woord draai, en van homself ‘n vyand van God maak. Wanneer hy laasgenoemde weg volg, beweeg hy weg van die middelpunt van die heelal af en begewe homself op ‘n pad wat in morele verdorwenheid en geestelike duisternis eindig, asook oorheersing deur Satan wat die selfverklaarde god van hierdie wêreld is (2 Kor. 4:4). Die duiwel gee aan die afvalliges afgode om te aanbid, en maak van hulle wettelose mense wat geen gesag erken nie.

Sedert die vroegste begin van menslike lewe op die planeet aarde word mense, in ‘n geestelike sin, na die genadetroon in die middelpunt van die heelal genooi om hulle aan God se wil te onderwerp en die gawe van die ewige lewe te ontvang. Hulle moet ‘n keuse maak. Adam en Eva het voor ‘n uiters belangrike keuse tussen lewe of dood te staan gekom, wat ook vir al hulle nageslagte implikasies sou hê (Gen. 2:16-17; Rom. 5:12). Kain moes kies tussen die geregtigheid van God en die geestelike besoedeling wat deur sonde veroorsaak word (Gen. 4:7). Moses het die hele Israel daaraan herinner dat hulle die regte keuse moes maak om die Here lief te hê en te gehoorsaam, indien hulle wou lewe en die vloek ontkom wat op die sonde rus (Deut. 30:19-20). Hierdie lewensbelangrike keuse is later deur Josua herhaal (Jos. 24:15). Toe die Here Jesus gekom het, het Hy Israel se noodlottige besluit om Hom as Messias te verwerp, diep betreur (Matt. 23:37; Luk. 19:41-44). Paulus het ook by die nie-Joodse volke gepleit om hulle met God te versoen indien hulle ‘n aandeel in sy geregtigheid wou hê (2 Kor. 5:20-21). In die laaste hoofstuk van die Bybel gaan daar weer eens ‘n oproep uit tot die vrye wil van die mens om die regte besluit te neem en neer te buig voor die enigste Een wat elkeen se geestelike dors kan les: “Laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17).

Indien ons die regte besluit neem, dan word ons volgelinge van die Here Jesus, aan wie die Vader alle mag in die hemel en op aarde oorgegee het (Matt. 28:18). Hy sal dan ook van ons meer as oorwinnaars maak in ‘n sondige wêreld waarin die meeste mense verkies om die pad van sonde te bewandel (Joh. 3:19). As ons op die regte pad volhard, wag daar vir ons die ewige heerlikheid van Hom wat die Skepper en middelpunt van die heelal is. Hoe wonderlik as Hy die middelpunt en hoofdoel van jou lewe is.

3. Die verpersoonliking van reddende genade

Die genade wat God aan ons verleen om gered te kan word en ook geestelik op te groei, is geheel en al op die genadewerk van Jesus Christus gebaseer, naamlik sy menswording, kruisdood en opstanding uit die dood. Die oomblik wanneer ons ons fokus van hierdie sentrale waarheid af verskuif, loop ons gevaar om ons redding gedeeltelik of dalk ten volle op goeie werke of wetsonderhouding te baseer, of op kerklike rituele soos die doop en aanneming. Dan is geloof in Christus nie meer die middelpunt van ons verlossing nie en roem ons in onsself of in ander dinge. Paulus het gesê hy staan nie voor God met sy geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met die geregtigheid wat hy deur geloof in Jesus Christus verkry het (Fil. 3:9).

Ons moet die deur van ons harte vir die Here Jesus oopmaak, want Hy is die Redder van ons siele. Ons moet voortdurend van sy teenwoordigheid deur die Heilige Gees bewus wees, daarom moet  ‘n ware Christen kan sê: “Ek weet my Verlosser leef, want Hy leef in my... In Hom het ek die verlossing deur sy bloed... Ek roem in sy kruis deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld... As ek in Jesus Christus bly, sal ek veel vrug dra en sal Hy met my gaan tot aan die voleinding van die wêreld.” My oog moet altyd op Hom gevestig bly, want Hy is die Leidsman en Voleinder van my geloof (Heb. 12:1-2).

4. Die Verlosser wat die prys betaal het

Daar moet ‘n sterk bewussyn by ons wees dat die Here Jesus die volle prys vir ons sondes betaal het, en dat Hy aan ons die waarborg van vryspraak gee. Ons was gevangenes van Satan wat weens ons sonde verhoorafwagtend was, en oor wie die straf van die ewige dood uitgespreek sou word (Eseg. 18:20; Rom. 6:23). Jesus Christus het hierdie straf egter aan die kruis gedra en kan volle kwytskelding verleen aan almal wat hulle sondes teenoor Hom bely en Hom as hulle Verlosser aanneem: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).

Die aanklagte teen ons is deur Christus se kruisdood gekanselleer: “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael” (Kol. 2:13-14).

Deur sy soendood het Hy vir alle gevangenes van Satan vrylating uitgeroep, en ons moet onsself gedurig hierop beroep. Ons moet bly wees dat ons skuld betaal is en dat ons name uit genade in die boek van die lewe geskryf is. Ons Redder is ‘n Persoon, Jesus Christus – nie ‘n godsdienstige organisasie, ‘n stel wette, of kerklike rituele wat deur ‘n ampsdraer bedien word nie. Ons moet ‘n persoonlike ontmoeting met die Here Jesus hê, en ook die getuienis van sy Heilige Gees in ons hart dat ons aan Hom behoort.

5. Die nederige dienskneg wat self ook God is

Die Here Jesus is as mens in die gestalte van ‘n nederige dienskneg geopenbaar, soos wat Hy ná sy eerste koms in die vier Evangelies beskryf word. Tydens sy aardse bediening het Hy as die Seun en Dienskneg van die Vader opgetree en ook sy lewe as ‘n losprys vir ons sondes afgelê.  Hierdie besondere openbaring van Hom as mens moet geensins daartoe lei dat ons Hom net as ‘n sterflike mens met ‘n aardse vader beskou, en gevolglik as iemand wat nie uit die hemel kom en ook nie self God is nie. Hy is trouens juis maagdelik gebore om aan te toon dat Hy deur die Heilige Gees verwek is en uit die hemel kom. Hy het ter wille van ons ‘n menslike liggaam aangeneem sodat Hy in die plek van sondaars kon sterf.

Ons moet egter nie net in die Evangelies oor die lydende Messias lees nie, maar ook in die boek Openbaring oor hoe Hy tydens sy wederkoms gaan verskyn. Wanneer Hy weer kom, kom Hy as Koning van die konings, wat met heerlikheid, mag en majesteit beklee sal wees. Sy oë sal soos vuurvlamme wees, sy hare wit soos wol, met ‘n goue gordel om sy bors. Die koninkryke van die wêreld sal sy eiendom wees en Hy sal as Koning heers op die troon van Dawid. Hy sal sy vyande oordeel en die duiwel en sy trawante se mag verbreek.

Besef jy dat die nederige Jesus van wie jy in die Evangelies lees, ook die magtige Oorwinnaar is wat sy teëstanders op die dag van sy toorn sal verdelg? Selfs sy dissipels het aanvanklik nie geweet dat Hy die Here en God is wat die aarde geskape het nie. Hulle het nie besef dat Hy een met die Vader is nie, daarom het Jesus vir hulle gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Die misleide leiers van Israel het nog minder besef dat Jesus van alle ewigheid af as God bestaan, daarom het Hy vir hulle gesê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58).

Ons moet ten volle begryp dat Hy wat die Redder van ons siele en die Middelpunt van ons lewens is, niemand minder is nie as die “waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20).

6. Die opstanding en die lewe

Die opstanding van die Here Jesus is so ‘n sentrale gedagte dat ons geloof in Hom van ons kinders van die opstanding maak wat almal die ewige lewe het (Luk. 20:36). Eerstens is daar die feit van Christus se fisiese opstanding uit die dood nadat Hy die prys vir ons sonde aan die kruis betaal het. Omdat Hy die ewige lewe in Homself het, was dit onmoontlik dat die graf en die dood Hom kon behou. Hy is met ‘n onsterflike opstandingsliggaam opgewek, en belowe aan al sy dissipels ook só ‘n opstanding met ‘n nuwe onsterflike liggaam.

Die Here Jesus sê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hulle ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Joh. 11:25-26). Wanneer Hy kom, sal almal wat in Christus gesterf het, in onverganklikheid opgewek word (1 Kor. 15:52-53), terwyl die gelowiges wat op daardie dag nog lewe, in ‘n oomblik verander sal word van verganklikheid na onverganklikheid en daarom nooit die dood sal sien nie. Paulus sê ons vernederde liggame sal van gedaante verander om gelykvormig te word aan Christus se verheerlikte liggaam (Fil. 3:20-21).

Die opstanding van ontslape gelowiges en die verandering van lewende gelowiges sal tydens die wegraping plaasvind, en slegs Christene sal hieraan deel hê (1 Thess. 4:16-17). Die Vader sê: “Elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, [het] die ewige lewe; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh. 6:40). Paulus het gesê die belofte van die opstanding uit die dode is ’n sentrale dryfveer van sy lewe, daarom werp hy alles in die stryd om dit te verkry: “...sodat ek  Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik” (Fil. 3:10-11).

Omdat alle mense vir ewig sal bestaan, wag daar ook ‘n opstanding vir die onregverdiges. Johannes sê: “Daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Joh. 5:28-29). Die regverdiges staan egter op aan die einde van die kerkbedeling wanneer Christus sy bruidsgemeente kom haal, maar die ongelowiges sal eers ná die duisendjarige vrederyk opstaan om voor die groot wit troon tot die ewige dood in die poel van vuur veroordeel te word.

Johannes onderskei die twee opstandings só van mekaar: “Die ander dode [dit is die onregverdiges] het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie... Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer die duisend jaar lank” (Op. 20:5-6). Die tweede dood – dit is die ewige dood – wag op die ongelowiges aan die einde van die duisendjarige vrederyk.

Die belofte oor die opstanding van die regverdiges is so ‘n sentrale gedagte in ons geloofslewe dat dit deel van ons basiese geloofsbelydenis is. Paulus sê: “As die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes” (1 Kor. 15:16-17). Ons aanbid ‘n lewende God, en dit onderskei ons duidelik van al die valse gelowe wat almal dooie afgode vereer. Christus het opgestaan en lewe vir altyd, daarom sal ons ook opstaan en vir ewig voor sy aangesig lewe.

7. Die wynstok as die Bron van ons lewe

Dit moet by ons ‘n vaste oortuiging wees dat die Here Jesus die Bron van ons lewe is. Hy is die wynstok waarin ons geënt is, daarom het Hy vir sy dissipels gesê: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:5). Indien ons naby aan Hom leef en in Hom bly, sal dit geestelik goed gaan met ons en sal ons vrugte dra wat by die bekering pas. Ons moet geen plek vir die suurdeeg van sonde in ons lewe gee nie (1 Kor. 5:6-8), want dit sal ons verhouding met die Here Jesus vertroebel.

Sommige mense vergeet dat Christus die sentrale fokus van hulle lewe moet wees, en identifiseer dan met ‘n sekondêre geestelike bron. Een van die sienings wat van ons verhouding met die ware wynstok afwyk, is diegene wat in terme van die beeldspraak in Romeine 11:16-24 meen dat hulle as gelowiges in die volk Israel ingeënt is. In plaas van om meer soos Christus te word, word hulle meer soos Israel. Hulle noem hulleself die ‘Hebreeuse Wortels Beweging’ (Hebrew Roots Movement), begin om Ou Testamentiese Joodse wette te onderhou en hulle feeste te vier, insluitend die Joodse sabbat, en ook net Hebreeuse name vir die Here te gebruik.

‘n Terugkeer na die wet as die bron van ons lewe, kan egter vernietigende gevolge in mense se geestelike lewe hê. Paulus sê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). As Jesus Christus nie meer die absolute middelpunt van ons lewe is nie, sal daar groot probleme intree.

Wat die beeld van die olyfboom in Romeine 11 betref, moet daarop gelet word dat dit in werklikheid net die takke is wat Israel voorstel. Hulle is weens ongeloof afgekap, en ons is beslis nie in hulle ingeënt nie! Israel het uit God ontspring, daarom is die wortels van die olyfboom God self wat die belofte van die Messias aan Israel gegee het. Die Here Jesus het gesê: “Ek is die wortel en geslag van Dawid” (Op. 22:16). Hoewel Hy as mens uit die geslag van Dawid gebore is, is Hy ook die wortel of oorsprong van Dawid, en ook van Israel as die uitverkore volk.

Abraham, as die stamvader van Israel, is ook net belangrik omdat hy ‘n geloofsverhouding met God as sy geestelike wortel gehad het: “En hy [Abraham] het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken” (Gen. 15:6). Die groot geheim vir Israel en die nasies is nie die Joodse volk wat van Abraham afstam, asook al hulle wette en rituele nie, maar die Messias wat uit hierdie volk gebore is. Jesus is die saad van Abraham, daarom het Hy vir die Jode gesê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Dit is die rede waarom die Here aan Abraham gesê het: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 12:3). Die Messias, wat die Verlosser van die hele wêreld is, sou uit Israel gebore word. Paulus verwys na die groot betekenis van die kruisdood van die Messias, “sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang” (Gal. 3:13-14).

Christus is die bron van alle seëninge, en omdat Israel Hom verwerp het, is hulle oor die aarde verstrooi. Eers wanneer hulle met Hom herenig is, word hulle weer in die olyfboom waarin ons reeds is, teruggeënt (Rom. 11:23-26). Dan sal hulle in die Messias ‘n seën vir die hele aarde wees (Rom. 11:11-12). Ons moet dus nie nou soos hulle probeer wees nie, maar slegs in die voetspore van die Messias volg. Ons moet hulle jaloers maak op die manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias dien.

8. Die enigste fondament van ons lewe

‘n Verdere kenmerk van Christene is dat hulle deur die wedergeboorte ‘n nuwe lewe gekry het wat op die fondament, Jesus Christus, berus. Dit is ‘n vaste geestelike basis waarop hulle hele lewe gebou word. Die Here Jesus het dit in ‘n gelykenis verduidelik aan die hand van ‘n verstandige man wat sy huis op die rots van God se Woord gebou het. Dié man se huis kon alle storms trotseer omdat dit op ‘n vaste rots gebou was. Hierteenoor was daar die dwase man wat sy huis op sand gebou het, maar dit het tot ‘n val gekom toe die storms dit getref het (Matt. 7:24-27). So gaan dit met almal wie se lewens nie op die Rots, Jesus Christus, gebou is nie: die krisisse en storms van die lewe vernietig hulle uiteindelik. Selfs al oorleef hulle die huidige storms van die lewe, sal hulle beslis ondergaan wanneer die eindtydse storms van God se oordele hulle tref.

Ons moet baie aandag gee aan hierdie belangrike aspek van Christus se posisie en rol in ons lewe, want dit stel ons voor groot uitdagings om op die regte manier daarop te reageer en voort te bou. Nie alle lote wat in die wynstok (Jesus Christus) ingeënt is, dra noodwendig vrugte nie (Joh. 15:1-6). So ook bou nie almal van ons op die regte manier, deur ‘n lewe van toewyding, op die Christelike fondament van ons lewe nie. Paulus sê:

“Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:11-15).

Net die Here Jesus kan ons red, daarom kan niemand anders die fondament van wedergeboorte in ons lewe lê nie. Dit is egter slegs die begin van ‘n nuwe lewe in Christus, en nou moet ons die nodige sorg aan die dag lê oor hoe ons op hierdie fondament voortbou. Indien ons die Here vir die vervulling met die Heilige Gees vertrou en deur die Gees wandel, sal die vrug van die Gees in ons lewens sigbaar wees. Dit sal gestalte aanneem in werke wat ewigheidswaarde het.

Indien ons egter onverskillig is oor ons geestelike lewe en nalaat om ‘n volle oorgawe te maak, sal ons vleeslike werke doen wat vir die Here verwerplik is. Hierdie werke sal sterk elemente van wêreldgesindheid, eie eer, statusbeheptheid en ‘n sug na rykdom insluit, asook kwaadsprekery - en sal soos hout, hooi en stoppels voor Christus se regterstoel verbrand. Die vleeslike Korinthiërs het hulleself hieraan skuldig gemaak (1 Kor. 3:1-3), asook die vleeslike Galásiërs en Hebreërs (Gal. 5:16-17; Heb. 5:12-13).

Dit is duidelik dat baie van die Christene nie met onverdeelde harte op Jesus Christus as die middelpunt en fondament van hulle lewens ingestel is nie, en daarom lewens lei wat nie aan sy standaard van heiligheid en vrugbare diens voldoen nie (vgl. Joh. 13:17).

9. Die middelpunt van ons gebede

Jesus Christus moet ook die middelpunt van ons gebede wees. Dit moet primêr oor sy eer gaan, oor danksegging omdat Hy ons siele uit genade gered het, en ook oor alle sake wat met die uitbreiding van sy koninkryk in verband staan. Verder moet ons bid vir krag om in ‘n goddelose wêreld staande te bly, wysheid om die regte besluite te neem, en vasberadenheid om waardig volgens die evangelie van Jesus Christus te wandel. Alle gebedsversoeke wat ons vir onsself en ander mense tot God rig, moet altyd in die Naam van Jesus Christus gedoen word omdat sy verdienste aan die kruis die waarborg is vir die verhoring van gebede wat volgens sy wil gebid word (1 Joh. 5:14). Die Here Jesus, sy koninkryk en sy wil moet altyd die middelpunt en hoofdoel van ons gebede wees.

10. Die hoogste uitdrukking van heiligheid en volkomenheid

Indien Jesus Christus werklik die begin, die middelpunt, en die eindbestemming van ons lewe is, sal ons doelgerig daarna streef om aan sy beeld van heiligheid gelykvormig te word. God se skeppingsdoel met die mens is heiligheid, sodat die Skepper en die mens wat na sy beeld geskape is, ‘n vaste verhouding kan hê en gedurig met mekaar kommunikeer: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:15-16; Lev. 11:44). Die Here Jesus is die absolute toonbeeld van heiligheid, daarom het Hy vir ons ‘n voorbeeld nagelaat sodat ons in sy voetstappe kan volg (1 Pet. 2:21). “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6). Ons is geroep tot ‘n heilige lewe in Christus.

Hierdie hoë standaard van heiligheid kan slegs bereik word indien ons nader aan die geestelike middelpunt van ons lewe beweeg, naamlik Christus. Wat ons kennis van Jesus Christus betref, moet ons opgroei “tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14).

Die vraag is dus: “Is ons nog klein kindertjies in Christus wat Hom met onvaste treë volg, wat deur ander gevoed en gedra moet word, en wat geen insig in die dieper dinge van die Woord het nie?” Indien wel, dan sal ons maklike slagoffers vir misleiding deur die sielevyand wees. Benewens die feit dat ons nie aan die hoë roeping van God in Christus Jesus sal voldoen nie, sal ons weens ons gebrek aan insig ook baie skade aan die saak van die Here aanrig. Ons kennis en oordeelsvermoë sal so swak wees dat ons aan niemand goeie raad sal kan gee nie. Die oplossing hiervoor is om meer volkome aan die beeld van Christus gelykvormig te word en deur sy Gees in die hele waarheid gelei te word.

11. Die toonbeeld van goddelike liefde

Jesus Christus is self die toonbeeld en verpersoonliking van goddelike agape liefde. As ons met onverdeelde harte op Hom ingestel is, dan verwag Hy eerstens van ons om Hom en sy Vader bo alles en almal lief te hê, om tweedens ‘n liefde vir ons broeders in Christus te hê, en derdens ‘n liefde en deernis vir ‘n verloregaande wêreld te hê. Die gebod van die liefde is die enigste gebod van die Nuwe Testament, daarom het ons nie meer die Ou Testamentiese wet nodig nie – God se liefde voldoen aan al die eise daarvan (Rom. 13:8-10).

Vertoon ons hierdie liefde? Die Here Jesus het vir sy dissipels gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh. 13:34). Ons moet ‘n duidelike keuse maak om deur God se liefde gevul en gelei te word, want ons kan nie die wêreld én vir God liefhê nie (1 Joh. 2:15-17). Ons moet ook leer om volmaak te word in die liefde en daarin te volhard. Johannes sê: “Elkeen wat [die Here se] Woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword” (1 Joh. 2:5).

Dit is ongelukkig ook moontlik om te veragter in die genade indien ons Christus en sy liefde vir ons nie ernstig opneem nie. Baie mense stagneer geestelik en keer weer na menslike en wêreldse liefdes terug, en dit sluit ‘n voorliefde vir kerke met lae geestelike standaarde in. Vir sulke mense sê die Here Jesus: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).

Suiwer, goddelike liefde wat in die eerste plek ingestel is op die diepe nood en geestelike behoeftes van ander, is wat die Here Jesus uitdruklik as die oplossing vir die geestelike nood van die wêreld verkondig. Die dinamika van hierdie liefde moet die aard van ons besluite, dade en menseverhoudings bepaal. Slegs dan sal Jesus Christus die middelpunt van ons lewe wees.

12. Die Heilige wat ons deur sy Gees lei

Die Here Jesus is die enigste rolmodel vir ons lewe. Ons word geroep om volkome met Christus te identifiseer en soos Hy te word: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14). Dit beteken dat Christus in ons gestalte moet verkry (Gal. 4:19). Hoe gebeur dit? Deur die vervulling met die Heilige Gees word ons met ‘n nuwe natuur beklee “wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:24). ‘n Voorvereiste hiervoor is dat ons, “wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan en dat [ons] vernuwe moet word in die gees van [ons] gemoed” (Ef. 4:22-23). Deur vereenselwiging met die kruis van Christus moet die ou natuur afgesterf word omdat dit ‘n struikelblok in die weg van geestelike vernuwing is (Luk. 9:23; Gal. 5:17; 6:14).

Christus het die Heilige Gees uitgestort om ons in die hele waarheid te lei, ons toe te rus met krag uit die hoogte, en ons te herinner aan alles wat Hy ons beveel het (Joh. 14:26; 16:13-14; Hand. 1:8). As ons deur die Gees wandel, sal die heilige natuur van Christus in ons gesien kan word. Dit is die enigste manier waarop ons die lieflike geur van Jesus Christus oral sal kan versprei (2 Kor. 2:14).

Ons moenie voorspraak vir ‘n bepaalde kerk of godsdienstige siening maak nie, want dan maak ons van ‘n bysaak ‘n hoofsaak. Ons moet getuies vir Jesus Christus wees, en nie propagandiste vir die doop, die wet, talespreek of watter ander gebruik ook al nie. Indien ons met mense in gesprek tree, hoef hulle nie eers te weet aan watter kerk ons behoort nie – dit is indien ons hoegenaamd aan ‘n denominasie behoort. Baie mense dien die Here Jesus op ‘n baie meer informele wyse by hulle huise en in hulle omgang met ander mense. Hulle lees goeie boeke en kry ook bruikbare inligtingsmateriaal op die internet, hoewel goed ontwikkelde onderskeidingsvermoë nodig is om die leerstellige suiwerheid van inligting te kan bepaal.

Almal van ons moet groot erns daarmee maak om in die genade en kennis van Christus toe te neem (2 Pet. 3:18), want sonder goeie geestelike insig sal ons nie die vermoë hê om dwalings te kan raaksien en weerstaan nie. Ons kan nie net alles aanvaar wat oor ons pad kom nie, want nie alle standpunte voldoen aan die eise van ‘n evangeliese leerstelling nie. Of ons onsself binne of buite ‘n denominasie bevind, daar sal altyd dwalings wees waarmee ons in aanraking kom, en wat ons sal moet weerlê. Dwalings raak natuurlik meer rigied gevestig wanneer hulle as deel van ‘n kerklike leerstelling aanvaar word. In daardie geval moet ‘n mens jou van ‘n kerk distansieer om van die invloed van ‘n sekere dwaling af weg te kom.

Jesus Christus is die weg, die waarheid en die lewe (Joh. 14:6). Die “leer van Christus” (2 Joh. 1:9) bevat al die sentrale waarhede waarvan ons kennis moet dra: “En julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak... As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:32,36). As ons Hom werklik goed ken en Hy is die middelpunt van ons lewe, dan het ons ‘n duidelike begrip van geestelike en morele waarhede en sal gevolglik nie maklik mislei kan word nie. Ons moet in ons prediking en getuienis na buite meer op Jesus Christus as op dwalings konsentreer. Voordat mense Hom nie baie goed ken nie, sal hulle nie maklik kan insien dat hulle verkeerd is nie. Wanneer hulle Hom wél ken en dien, sal hulle ‘n betroubare verwysingsraamwerk oor geestelike sake hê. Die Heilige Gees wil ons in Christus se voetspore lei en ‘n oortuiging in ons harte skep oor wat reg en verkeerd is.

13. Die Oorwinnaar oor bose magte

Die Here Jesus is die groot Oorwinnaar oor al die magte van die vyand. Deur sy kruisdood het Hy die mag wat Satan oor mense gehad het, verbreek (Heb. 2:14). Hy het “die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kol. 2:15). Deur geloof in Hom kan ons ook meer as oorwinnaars wees (Rom. 8:37).

Hierdie oorwinning is egter net vir diegene wat waarlik aan Christus behoort en ook deur sy Heilige Gees toegerus is met krag uit die hoogte (Luk. 24:49). Wat die ongeredde wêreld betref wat deur die bewandelaars van die breë pad verteenwoordig word, is Satan nog steeds ‘n maghebber. Die Bybel noem hom die owerste en god van die gevalle wêreld (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4; Ef. 2:2; 1 Joh. 5:19). Hy en sy demone is die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu (Ef. 6:12), en hulle heerskappy oor die sondige wêreld sal eers tydens Christus se wederkoms verbreek word (Op. 19:19-20; 20:1-3).

Ons is dus geestelik gesproke in ‘n operasionele gebied waarin ons die volle wapenrusting van God moet aantrek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-11). “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor. 10:3-5).

Elke vesting van Satan in ons lewe – dit is sonde waardeur ons gebind word – moet verbreek word, asook al die bose planne wat die sielevyand aan ons gee om ook geheime sondes soos bedrog en owerspel te pleeg. Skanse teen die Woord van God – dit is die onbybelse regverdiging om sonde te doen – moet ook afgebreek word, terwyl alle sondige gedagtes en motiewe gevange geneem en deur gehoorsaamheid aan Christus vervang moet word. Ons moet veral in ons gedagtewêreld getrou aan Christus bly en op sy heiligheid ingestel wees.

Deur ‘n sterk geloof moet ons leer om te oorwin en nie voor versoekings en aanslae te swig nie. Stry die goeie stryd van die geloof (1 Tim. 6:12) en moenie die knie voor Baäl buig nie. As ons oorwin, sal ons eendag saam met Christus in sy koninkryk regeer. Hy sê: “Aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:26).

14. Die Hoof van die gemeente

Om van Christus se sleutelrol in ons lewe bewus te wees, behels ook erkenning van sy posisie as Hoof van die gemeente: “Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees” (Kol. 1:18; vgl. Ef. 1:22). Alle weergebore Christene is lede van die liggaam van Christus en Hy is die Hoof van ons almal. Waar groepe Christene op verskillende plekke saamkom om plaaslike gemeentes te vorm, is Christus ook die Hoof van elke gemeente.

Ouderlinge, ook predikers of lerende ouderlinge, is veronderstel om onder die hoofskap en leiding van Christus te funksioneer. Hulle moet versigtig wees om nie verhewe titels of status te eis en sodoende inbreuk op Christus se hoofskap te maak nie. Petrus sê: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is... nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang” (1 Pet. 5:2-4). Christus het die oorhoofse gesag, daarom moet alle herders deur die Heilige Gees sy leiding soek en uitvoering daaraan gee.

Paulus waarsku ernstig teen arrogante herders wat hulle eie koppe volg, dwalings verkondig, en daardeur wanorde in gemeentes skep (Hand. 20:28-30). Hy beskryf hulle as wrede wolwe wat die kudde van God mislei. Dit gebeur natuurlik omdat baie van die lidmate navolgers van mense is, eerder as van Jesus Christus wat hulle Hoof en Leidsman behoort te wees.

Wanneer ons as gelowiges saam die Here dien, moet dit met ‘n sterk bewussyn van Christus se hoofskap en leiding gepaard gaan. Ons moet oppas om nie só domineebewus en kerkbewus te raak dat die Here Jesus in die proses op die agtergrond geskuif word nie, want dan is ons met die strukture, leerstellings en gebooie van mense besig. Indien die leraar egter ‘n onbesproke lewe lei en die Woord van die Here suiwer verkondig, kan ons sy leiding aanvaar omdat Christus deur hom praat. Paulus het gesê: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Kor. 11:1). Dit is egter nie die geval met alle geestelike leiers nie, daarom moet ons seker maak dat ons nie ‘n onbetroubare “hoof” oor ons lewe erken en navolg nie.

Dit was in Israel ‘n algemene gebruik om godsdienstige strukture te skep en leringe te vestig waarin daar geen plek vir die Here Jesus en sy evangelieboodskap was nie. Hy het die godsdiensleiers erg verkwalik omdat hulle God weerstaan: “Tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is... Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou... So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het” (Mark. 7:7-13).

In ons tyd vind dieselfde misleiding plaas: valse geestelike fondamente word aan mense gebied waarin doop en kerklidmaatskap as genoegsaam vir redding beskou word, terwyl die eis van bekering en wedergeboorte meesal verswyg word. Christus se maagdelike geboorte, sy godheid en opstanding uit die dood, asook die onfeilbaarheid van sy Woord, word ook nie meer algemeen verkondig nie. Dit is duidelik dat Jesus Christus nie die Hoof van sulke gemeentes is nie, hoewel hulle nominaal ‘n Christelike tradisie mag bely. Hierdie mense eer die Here Jesus net met hulle lippe, maar hulle harte is ver van Hom af (Matt. 15:8).

Lei jy jou lewe onder die direkte hoofskap van Christus, wat jou deur sy Woord en sy Heilige Gees in die hele waarheid wil lei? Gaan jy onder diegene uit wat valse leringe verkondig en net ‘n gedaante van godsaligheid het? (2 Tim. 3:5). As jy dit nie doen nie, is jou oog nie meer regtig op Christus gevestig nie en is Hy nie waarlik die middelpunt van jou lewe en Christelike ervaring nie. Indien jy met ‘n mensgemaakte teologiese stroom afdryf, raak jy noodwendig van die Bron van alle waarheid én die ewige lewe vervreem. Dan sal jy geestelik wegkwyn en geen krag vir weerbaarheid teen die vyand se aanslae en sy valse leerstellings hê nie. Daar sal nie voor Christus se regterstoel in die eerste instansie gekyk word of jy ‘n getroue kerklidmaat was nie, maar of jy ‘n getroue volgeling van Jesus Christus was – dit is al wat werklik saakmaak!

15. Die Bruidegom wat ons kom haal

Ons verbondenheid met Jesus Christus as lede van sy bruidsgemeente dra grootliks daartoe by om meer inhoud aan die geestelike en emosionele band tussen ons en Hom te verleen. Dit versterk ons verlange om Hom te sien, by die bruilof van die Lam met Hom verenig te word en dan vir altyd in sy teenwoordigheid te lewe. Hierdie verhouding is ‘n baie sterk motivering vir heiligmaking, want ons moet voorberei word om op daardie dag vlekkeloos en onberispelik voor Hom te verskyn. Hy stel nie onredelike eise aan ons nie en het dit vir alle gelowiges moontlik gemaak om hierdie vlak van heiligmaking te kan bereik:

“Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27; vgl. 1 Thess. 5:23-24).

In die tradisionele Joodse huweliksgebruike moes die bruid ‘n olielampie hê wat elke nag in haar kamer gebrand het. Dit was die simbool van haar voortgesette getrouheid aan die bruidegom wat vir hulle plek gaan berei het by sy vader se huis. Wanneer die bruidegom ná omtrent ‘n jaar gekom het om haar te kom haal, gewoonlik laat in die aand, moes die brandende lampie op haar vensterbank wees. Indien haar kamer egter donker was, het die jongman geweet dat sy die verhouding verbreek het en nie met die huwelik wou voortgaan nie. Hy het dan omgedraai na sy vaderhuis toe en haar net daar gelos.

Uit die gelykenis van die tien maagde (Matt. 25:1-13) is dit ook duidelik dat sommige van die meisies nie genoeg olie gehad het nie, en dat hulle lampe op die laaste oomblik uitgegaan het. Hulle het as gevolg daarvan agtergebly toe die bruidegom gekom het. Die olie is ‘n simbool van die Heilige Gees. Indien ons nie met die Gees vervul is (Ef. 5:18) en deur die Gees wandel nie (Gal. 5:16), verkeer ons in geestelike duisternis. In hierdie toestand is ons nie gereed vir die koms van die Bruidegom nie, en kan moontlik agterbly wanneer Hy skielik kom.

Wandel jy in die lig van die hemelse Bruidegom se Woord en maak jy gereed om voor Hom te verskyn? Die regverdige dade van die heiliges (die vrug van die Heilige Gees in ‘n oorgegewe lewe) is die weefstof van ‘n bruilofskleed (Op. 19:7-8) en maak dit moontlik om op ‘n waardige wyse ‘n lid van sy bruidsgemeente te wees. Dit is die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie (Heb. 12:14). Die goud, silwer en kosbare stene waarmee ons op die fondament van bekering moet voortbou (1 Kor. 3:11-14), dui ook op die vrug van die Heilige Gees, en dít alleen is vir die Here aanvaarbaar as ‘n bewys van ons toewyding aan die Verlosser wat ons met sy bloed gekoop het.

16. Die lig van die wêreld

Die Here Jesus het gesê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh. 8:12). As ons van Hom bewus is, moet ons voortdurend daarna streef om in die lig van sy teenwoordigheid te wandel. Die meeste mense kom egter nie naby Christus nie, want hulle leef in sonde en het die duisternis liewer as die lig (Joh. 3:19). Ons wat kinders van die lig is, moet geen gemeenskap hê met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar dit liewer bestraf (Ef. 5:11).

Met die oog op sy hemelvaart het die Here Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle is die lig van die wêreld” (Matt. 5:14). Tydens sy fisiese afwesigheid is dit ons taak om steeds in die lig te wandel en deur ons getuienis en lewe te skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Om voortdurend van Jesus Christus as die middelpunt en hoofdoel van ons lewe bewus te wees, vereis dat ons Hom getrou sal navolg en nie skewe en krom paaie sal bewandel wat van die waarheid afwyk nie. Ons moet vrymoedigheid hê om ons lig oral te laat skyn sodat die evangelie van Christus se reddende genade die verlore mensdom kan bereik.

17. Die Blink Môrester

Christus self is ons hoop en waarborg op ‘n wonderlike toekoms saam met Hom in die hemel. Hy het gesê: “Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees... Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester” (Op. 22:12,16). Hy is die oorsprong en God van Dawid, maar in sy hoedanigheid as mens ook die afstammeling of seun van Dawid. Hy sal stil soos die môrester kom om sy dissipels weg te neem, hulle die tyd van oordele op aarde te laat ontvlug, en hulle erfgename van sy hemelse koninkryk te maak.

Die môrester verskyn in die laaste nagwaak, wanneer die nag op sy koudste en donkerste is. Die boodskap van hierdie ster se verskyning is dat die nag weldra verby sal wees en dat daar weer ‘n helder nuwe dag sal aanbreek (Rom. 13:12). Die kerkbedeling word as ‘n donker tydperk beskryf, daarom het Christene die opdrag om die lig van ‘n donker wêreld te wees (Matt. 5:14-16; Luk. 12:35). Wanneer hierdie nag ver gevorder het en dit amper dag is, sal die Blink Môrester bokant ‘n donker horison verskyn om in die geheim, ongesiens deur die wêreld, sy bruidsgemeente te kom haal (1 Thess. 4:16-17). In die hemel sal die weggevoerde Christene verheerlik en vir hulle arbeid in die Here beloon word.

Ná die wegraping sal ‘n relatief kort maar intense donker tyd op aarde aanbreek, wat die sewe jaar lange verdrukking onder die bewind van die draak (Satan), die dier (die Antichris) en die valse profeet sal wees (2 Thess. 2:3-12; Op. 13:1-18). Die Antichris se teëhouer – die ware kerk as ‘n tempel van die Heilige Gees – sal dan weg wees, en daarmee saam ook die lig van die wêreld. Ná die sewe jaar van verdrukking sal die Here Jesus soos die Son van Geregtigheid kom en elke oog sal Hom sien. Die nag van geestelike duisternis en sonde sal dan verby wees en Christus se duisendjarige vrederyk in al sy heerlikheid gevestig word.

Min mense sien die môrester omdat hulle dan nog slaap. As ons geestelik waaksaam is, sal ons Christus as die Môrester nie net sien kom nie, maar ook dadelik saam met Hom vertrek na die woning wat Hy in die hemel vir ons gaan voorberei het (Joh. 14:2-3). Ons moet seker maak dat ons Christusgerig leef en ‘n brandende lamp het. Ons is kinders van die lig en moet waak dat ons nie deur die duisternis rondom ons beïnvloed of afgetrek word nie.

18. Die Voorspraak

Terwyl die Here Jesus in die hemel is en by die Vader se troon vir ons intree, doen Hy ook as ons Advokaat vir ons voorspraak wanneer Satan ons by God se troon aankla. Die duiwel is “die aanklaer van ons broeders... wat hulle aankla voor onse God, dag en nag” (Op. 12:10). Wanneer Satan ons aankla, kom Christus tot ons verdediging op grond van die feit dat Hy reeds die straf vir ons oortredings betaal het. Johannes sê: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1-2). Op grond van sy vertoë word die duiwel se aanklagte nietig verklaar en verwerp.

Om dit egter vir Christus moontlik te maak om tot ons hulp te kom, moet ons nie in moedswillige sondes bly voortleef nie, want dan leef ons nie onder die versoening nie. Wanneer die Heilige Gees ons van sonde oortuig, moet ons dit dadelik bely en laat staan, dan sal ons van alle ongeregtigheid gereinig word (1 Joh. 1:9; Spr. 28:13), en sal Satan se hernude aanspraak op ons lewe, of ten minste ‘n deel daarvan, verwerp word.

Dit is wonderlik om te weet dat ons daagliks van die feit bewus kan wees dat die Here Jesus in die hemel vir ons bid en ook by sy Vader se troon as Advokaat vir ons optree. Sy genadetroon is voortdurend vir ons oop (Heb. 10:19-22), en dit help ons om in die regte verhouding met Hom te bly: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:16).

Jesus Christus moet elke dag ‘n lewende werklikheid in ons lewe wees – nie net ter wille van vergifnis en voortgesette reiniging deur sy bloed nie, maar ook ter wille van geestelike groei en die verkryging van goddelike wysheid sodat ons die regte besluite in die lewe kan neem. Ons is ook elke dag eer aan sy Naam verskuldig vir dit wat Hy vir ons gedoen het.

19. Die hoogste gesag in die heelal

Ons moet ten alle tye onthou dat die Drie-enige God die oppergesag in die heelal het, al lyk dit nie so as ons na die wêreld rondom ons kyk nie. “Waarom al die chaos en wanorde?” vra baie mense. God het soewerein besluit om aan engele én mense ‘n vrye wil te gee omdat Hy wil verseker dat ons Hom vrywillig en ongedwonge liefhet. Ons is nie manipuleerbare robotte nie, maar geestelike, verstandelike en emosionele wesens met ‘n innerlike oortuiging van reg en verkeerd, en ten alle tye vry om ten goede óf ten kwade besluite oor ons lewe en ons verhoudings te neem.

Lucifer het in die hemel toegelaat dat hoogmoed en magsug hom oormeester, en hy het daarin geslaag om ‘n derde van die engele aan te hits en te mislei om saam met hom teen die oppergesag van God te rebelleer. Dit het gelei tot hulle uitwerping uit die hemel en die ontstaan van die koninkryk van die duisternis. Hy het ook daarin geslaag om die meeste mense te mislei om hulle lewens buitekant die wil van die liefdevolle, Drie-enige God te lei. Dit verklaar die bose toestand waarin die wêreld is. Die menslike en demoniese faktore, en veral die wisselwerking tussen hierdie twee magte, verklaar die bose toestand waarin die wêreld is.

Sedert die sondeval in die Tuin van Eden en tot vandag toe is daar ‘n stryd aan die gang tussen God se koninkryk van die lig en Satan se koninkryk van die duisternis. Mense wat gered word, kom uit die duisternis van sonde oor tot die wonderbare lig van God se koninkryk. Omdat die oorgrote meerderheid van alle mense egter nie hierdie oorgang gemaak het nie, is die wêreld steeds in ‘n toestand van rebellie teen God en is dit dikwels moeilik vir Christene om hier te oorleef. Ons moet daagliks vir die ingryping en bewaring van God bid sodat ons in hierdie donker, sondige wêreld staande kan bly en versoekings en ongeregtigheid kan oorwin (Matt. 6:13; Joh. 17:15; 2 Thess. 3:3; Jud. 1:24).

Daar gaan egter spoedig ‘n tyd van groot oordele aanbreek, wanneer God die bose mensdom soos in die tyd van Noag en Lot gaan oordeel omdat hulle sy reddende genade versmaai het. Jesus Christus sal as die Koning van die konings terugkeer en die magsbasis van die vyand op aarde vernietig. Dan sal die kennis van die Here die aarde oordek soos die waters die seebodem (Jes. 11:9). Groot vrede sal op aarde heers en al die nasies sal gereeld afgevaardigdes na Jerusalem stuur om die Here te raadpleeg en te aanbid (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:21-22; 14:16).

Ons moet in ‘n geestelik vyandige wêreld leef soos mense wat in die Almagtige God glo, wat die beginsels en reëls van sy koninkryk eerbiedig, en wat geen plek aan die duiwel gee nie. Die goeie stryd van die geloof (1 Tim. 6:12) sal egter voortduur totdat die komende Koning die magbasis van die vyand vernietig het.

Die Koning in God se koninkryk is Jesus Christus. In Daniël 2 word die wêreldkoninkryke as ‘n groot beeld beskryf wat in die eindtyd deur die koms van die Messias vernietig gaan word. Sy koninkryk word as ‘n rots beskryf wat die beeld sal verbrysel en daarna só groot sal word dat dit die hele aarde vul (Dan. 2:31-35). Daniël verduidelik hierdie goddelike ingryping só: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Dan. 2:44).

Dit is presies wat tydens die wederkoms van Jesus Christus gaan gebeur: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15). Op die dag van Jesus Christus se wederkoms sal Hy eers die vyandige nasies oordeel voordat Hy sy koninkryk op aarde vestig:

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone... En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde... En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer... En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Op. 19:11-16).

Dit is die Koning wat ons uit die hemel verwag, daarom is ons vreemdelinge en bywoners in die huidige, goddelose wêreld (1 Pet. 2:11). Ons burgerskap is in die hemel (Fil. 3:20).

20. Die Regter van alle mense

Omdat God die oppergesag in die heelal het, kan Hy alle mense vir hulle dade en lewenswyse aanspreeklik hou. Dit geld sowel die gelowiges as die ongelowiges. Direk ná die wegraping sal die opgewekte gelowiges voor die regterstoel van Christus verskyn om genadeloon vir hulle werke ná bekering te ontvang. Petrus sê: “Die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God” (1 Pet. 4:17).

Hierdie geleentheid sal nie ‘n véroordeling wees nie, maar ‘n béoordeling. Almal wat voor die regterstoel verskyn, sal uit genade gered wees, sonder enige verdienste aan hulle kant. Hulle lewens as dissipels sal in oënskou geneem word, spesifiek na aanleiding van die manier waarop hulle die opdragte van die Here Jesus uitgevoer het.

Omdat alle Christene ‘n opdrag het om met die Heilige Gees vervul te word en in die hele wêreld getuies vir Christus te wees, sal hulle arbeid geëvalueer en die godsvrug wat daardeur opgelewer is, beloon word (2 Kor. 5:10). “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:12).

In die gelykenis van die ponde word daarop gewys dat elke dissipel van die Here Jesus ‘n goddelike werksvermoë het (Luk. 19:12-26). Die geskenk van die pond dui op die vervulling met die Heilige Gees, waardeur elkeen van ons bemagtig word om vir die Here te kan werk, ongeag op watter wyse. By die regterstoel sal bepaal word of ons getroue dissipels was: “En die eerste een het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19:16-17). Ander kry minder loon, en nog ander sal geen loon kry nie omdat hulle nie hulle genadegawes in die diens van die Here gebruik het nie (Luk. 19:18-26; 1 Kor. 3:15). Ons moet gedurig leef met die wete dat die liefdevolle Verlosser wat ons siele uit genade gered en ons by die uitbreiding van sy koninkryk op aarde betrek het, ook ‘n regverdige Regter is wat rekenskap van sy diensknegte gaan eis.

Die goddeloses moet met vrees en bewing van die regterlike funksie van die Here Jesus kennis neem, want hulle gaan nie slegs béoordeel nie, maar voor die groot wit troon véroordeel word omdat hulle sy aanbod van vergifnis en redding verwerp het (Op. 20:11-15). Petrus sê: “En as [die oordeel] eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Pet. 4:17-18).

God het gesê dat alle mense – in hulle eie belang én ook tot die eer van sy Naam – tot bekering moet kom. Indien hulle dit nie doen nie, sal Christus wat vir hulle sonde gesterf het, die Regter wees wat hulle sal oordeel: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31).

Die Lam van God roep alle mense op tot bekering (Luk. 24:46-47) sodat Hy hulle van die toekomstige toorn oor sondaars kan verlos (1 Thess. 1:10). Indien hulle egter nie hierop reageer nie, wag daar vir hulle die oordeel wat oor alle onbekeerlike sondaars uitgespreek is: “Die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23). In die komende verdrukking, nog lank voordat sondaars in die poel van vuur sal beland, sal hulle te midde van groot natuurrampe na die wankelende berge en rotse roep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17). Hulle sal baie goed weet dat die oordele uit die hemel kom en dat hulle skuldig staan teenoor God.

Bly in Christus en bewandel die reguit, smal paadjie, dan hoef jy nie te vrees vir dit wat sal kom nie: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Joh. 2:28). Vir die ware gelowiges sal daar ontvlugting wees uit die oordele wat kom. Die Here Jesus het self gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Wanneer Christene die oordele ontvlug het, kan hulle na genadeloon uitsien. Die Here Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou,  en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12).

21. Die enigste Vredevors

Enige Christen behoort op vrede ingestel te wees, daarom moet ons ook aan die Here Jesus as die groot Vredevors dink. Hy bring in die eerste plek vrede in ons harte omdat Hy die enigste een is wat die konflik tussen sondige mense en ‘n heilige God kan beëindig en ‘n liefdes- en vertrouensverhouding in die plek daarvan vestig. Hy kan dit doen omdat Hy die straf vir alle mense se sonde op Hom geneem het en ook aan alle bekeerlinge ‘n nuwe natuur gee wanneer hulle met God versoen word. Johannes sê: “Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Joh. 2:2).

Paulus sê Jesus Christus is ons vrede, want Hy het die evangelie van vrede kom verkondig deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tussen ons en God tot niet gemaak het (Ef. 2:14-17). Hy het in ons harte deur die Heilige Gees ‘n vrede uitgestort wat alle verstand te bowe gaan (Fil. 4:7). As gevolg hiervan kan ons ook na buite toe as vredemakers optree in ‘n wêreld wat vol haat, vyandskap en tweedrag is.

Dit beteken egter nie dat ons in ‘n gevaarlike, vyandige en sondige wêreld wat in die mag van die Bose lê, as pasifiste bekend moet wees wat teen alle vorms van dissipline, straf en gewapende konfrontasie gekant is nie. Indien ‘n sagte antwoord nie die grimmigheid afkeer nie, sal harder metodes gebruik moet word. Ons moet steeds die sout van ‘n bedorwe aarde wees en onsself teen sonde en ongeregtigheid uitspreek. Paulus sê: “Hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11). Konflik met individue en groepe wat hulleself deur die koninkryk van die duisternis laat gebruik om ongeregtigheid te laat seëvier, is onvermydelik.

Wat hierdie aspek van ons bestaan betref, het die Here gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard” (Matt. 10:34). Wanneer ‘n persoon homself tot die Here Jesus bekeer, is dit moontlik dat selfs sy vriende en familielede sy vyande sal word. Dit is dan wanneer hy moet vas staan en kragtig stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is (Jud. 1:3). Dit is selfs nie onvanpas vir ‘n Christen om in ‘n oorlogsituasie die wapen in die verdediging van sy land op te neem nie, solank dit defensiewe oorlogvoering is en nie onregverdigbare, offensiewe oorlogvoering nie.

Die oorlog waarby ons feitlik daagliks betrokke is, is ‘n geestelike oorlog teen die koninkryk van Satan (Ef. 6:10-12; 2 Kor. 10:3-4). Daar kom egter ‘n tyd wanneer hierdie oorlog beëindig sal word, en dit is tydens die wederkoms van Jesus Christus. By die slag van Armagéddon sal Hy nie net vyandige mense verdelg nie, maar ook die leiers van Satan se antichristelike nuwe wêreldorde, naamlik die Antichris en die valse profeet (Op. 19:19-21). Daarna sal die duiwel gebind word en sal sy werk van aanhitsing en verleiding vir ‘n duisend jaar lank tot ‘n einde kom (Op. 20:1-3).

Gedurende hierdie tyd sal Christus en sy heiliges oor die aarde regeer, en dit staan as sy duisendjarige vrederyk bekend (Op. 20:4-6; Jer. 3:17). Daar gaan dus ook ‘n fisiese vrede op hierdie sondige en verdeelde wêreld neerdaal, maar nie voordat die stigters van onheil en die aanhitsers van geweld uit die weg geruim is nie. Dan sal die Here Jesus op die troon van Dawid uit Jerusalem oor die hele wêreld regeer (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17). Sy regering sal wees “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk” (Jes. 9:6).

Verwag jy hierdie vrederyk op aarde en verkondig jy die koms van die groot Vredevors wat nie net vrede tussen ons en God bewerk nie, maar ook alle mense in vrede sal laat saamleef?

22. Die Een wat alles nuut maak

‘n Persoon wat onverdeeld op Jesus Christus ingestel is, is self ‘n bewys van die vernuwende werk wat Hy besig is om te doen. Alle gelowiges is uit die duisternis geroep tot sy wonderbare lig (1 Pet. 2:9), daarom kan hulle getuig dat die ou dinge verbygegaan en alles nuut geword het. Hulle verwag nog groter en wonderliker dinge in die toekoms, daarom vergeet hulle die dinge wat agter lê en strek hulle uit na dit wat voorlê (Fil. 3:14).

Vir alle gelowiges wag daar ‘n verheerlikte liggaam wat gelykvormig aan Christus se eie verheerlikte liggaam sal wees (Fil. 3:20-21). Dit is dus met groot verwagting dat ons na sy wederkoms uitsien: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees... Elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:2-3).

In ons verheerlikte toestand wanneer die Here alles nuut maak, sal ons nie eers meer die sondes en ellende van die verlede kan onthou nie, daarom sal daar niks wees wat ons volmaakte geluk sal kan versteur nie. Die Here sê: “Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie” (Jes. 65:17). Die Here sal self ook nie weer aan ons sonde dink wat Hy reeds vergewe het nie: “En aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie” (Heb. 10:17).

Sien jy uit na hierdie wonderlike vernuwing in ‘n volmaakte nuwe liggaam wat nooit sal kan oud word, pyn verduur, of enige ervaring van droefheid kan hê nie? Johannes sê: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut” (Op. 21:4-5).

Daar sal ‘n nuwe aarde en nuwe hemele wees, en ‘n ewigheid van volmaaktheid wat op alle weergebore dissipels van Jesus Christus wag. Ons het alle rede om hoopvol te wees en na ‘n wonderlike toekoms uit te sien. Ons kan nie eers al hierdie heerlikheid met ons beperkte verstand bedink nie, soos geskrywe is: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9).

Baie Christene het ongelukkig nie hierdie verwagting op die koms van Christus wat alles nuut gaan maak nie. Hulle wil ‘n koninkryk hier en nou in die kerkbedeling hê, waarin hulle in weelde en rykdom kan leef en waaroor hulle self wil regeer. Hulle verhef hulleself, daarom is Christus nie waarlik die middelpunt en groot verwagting van hulle lewe nie. Hulle siening sal net regkom as hulle Christus beter leer ken en ‘n eerlike studie van Bybelse profesieë doen. Hulle sal ook moet leer “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jak. 4:6).

23. Die sentrale Persoon in Bybelse profesieë

‘n Christusgesentreerde persoon sal Bybelse profesieë oor die eindtyd in hulle regstreekse verband met Jesus Christus vertolk en ook so aan ander verkondig. Johannes sê: “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Alles wat in die toekoms met individue én volke gaan gebeur, sal die direkte gevolg van hulle verhouding met die Here Jesus wees. Sy vyande gaan geoordeel word, terwyl sy gelowige volgelinge mede-erfgename van sy koninkryk sal wees, waarin hulle loon sal ontvang en ook saam met Hom sal regeer.

Die breë weg en die smal weg sal elk sy finale bestemming bereik. Die meerderheid ongelowiges wat die Here Jesus verwerp het, kan ondenkbare en ewige oordele verwag, terwyl die minderheid gelowiges wat sy genade aanvaar het, onbeskryflike hemelse seëninge sal beërf wat vir altyd sal voortduur.

Daar is belangrike tekens wat vir ons aantoon dat die tyd van beloning en straf baie naby is. Onder hierdie tekens is die herstel van Israel en Jerusalem, stygende spanning in die Midde-Ooste, die toenemende voorkoms van ernstige natuurrampe, geestelike misleiding, asook ‘n ontluikende nuwe wêreldorde waardeur strukture geskep word vir die Antichris se wêreldregering, wêreldekonomie, en alliansie van valse wêreldgodsdienste.

Al hierdie dinge moet in hulle regstreekse verband met Jesus Christus verklaar word. Daar is ongelukkig baie Christelike bedienings wat boodskappe en artikels oor die eindtyd aanbied sonder om in enige besonderheid na Jesus Christus te verwys. Hulle skryf bv. net oor Israel, natuurrampe, die Antichris, valse profete en ander tekens van die tye sonder om na die bepalende rol te verwys van mense se verhouding of wanverhouding met Jesus Christus.

Die wêreld gaan per slot van sake geoordeel word omdat hulle die Here Jesus verwerp het. Mense gaan die Antichris aanhang omdat hulle nie die ware Christus ken nie. Israel stuur op die tyd van benoudheid vir Jakob af omdat hulle steeds vir Jesus as Messias verwerp. Dit sal nie help om hierdie belangrike feit mis te kyk en dan net die Arabiere en ander volke verantwoordelik te hou vir Israel se tyd van benoudheid nie. Dit is sekondêre faktore wat juis voortspruit uit die feit dat hulle nie die beskerming geniet wat geloof in die Messias aan hulle sou bied nie.

Jode van die eerste eeu (en selfs tot vandag toe nog) het dieselfde fout gemaak, want hulle het die vernietiging van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van Israel primêr aan die vyandigheid van die Romeinse Ryk toegeskryf, maar die Bybel sê duidelik dit het gebeur omdat hulle die Messias verwerp het. Die Here Jesus het gesê Jerusalem sou in ‘n verwoeste toestand verval omdat die inwoners hulle godgegewe Messias-Koning verwerp het, en dat hierdie toestand van onstabiliteit sou voortduur totdat hulle eendag met Hom, as die Geseënde van die Here en die Heilige van Israel, versoen is (Matt. 23:37-39). By ‘n ander geleentheid het Hy gesê dat daar in Jerusalem nie een klip op die ander gelaat sal word nie omdat hulle die gunstige tyd toe God hulle deur die Messias besoek het, nie opgemerk het nie (Luk. 19:41-44). Hulle is dus self vir hulle ondergang verantwoordelik.

Dieselfde beginsel geld vandag nog: die Here maak die Jode in Israel en Jerusalem bymekaar om ‘n vuur van groot loutering teen hulle aan te blaas, sodat ‘n oorblyfsel van die volk tot besinning kan kom om gered te word (Eseg. 22:18-22; Sag. 12:2-3; 14:2; Jer. 30:7). Daar sal egter nie vir hulle vrede aanbreek voordat die Messias terugkom en die hele volk met Hom versoen is nie. Paulus sê: “En so sal die hele Israel gered word... Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26). “Hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here, want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie... Daar kom dae dat die stad [Jerusalem] vir die Here herbou sal word... dit sal nie weer uitgeruk of verwoes word in ewigheid nie” (Jer. 31:34-40).

Wanneer die Jode ná hulle nasionale versoening met die Messias ‘n Christenvolk sal wees, sal hulle hoog aangeskrewe wees in die hele wêreld: “So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23). In daardie tyd sal Jerusalem verhef word tot ‘n lof op aarde (Jes. 62:6-7), en dan sal vervul word wat die engel Gabriël voor Jesus se geboorte aan Maria gesê het: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32). Die troon van Dawid is nie in die hemel nie, maar in Jerusalem, en die Messias sal dit herstel wanneer Hy terugkom (Hand. 15:16-17).

Die Here Jesus is die middelpunt van die Bybel se profetiese scenario. Hy kom terug om sy bruidsgemeente te kom haal en na sy hemelse woning te neem (Joh. 14:2-3). Daarna gaan sy toorn tydens die sewe-jaar lange verdrukking oor die ongeredde nasies uitgestort word. Goddelike toorn sal tydens Christus se wederkoms sy hoogtepunt bereik wanneer die slag van Armagéddon in die Midde-Ooste sal plaasvind (Op. 19:19-21; Sag. 14:12-13).

Daarna sal die Here Jesus die oorblyfsel van Israel en die nasies red (Sag. 12:10; 14:16; Matt. 24:29-30), sy koninkryk op aarde openbaar (Jes. 2:2-4) en die opperheerser van al die koninkryke van die wêreld wees (Op. 11:15). Vrede sal oral op aarde heers en die nasies sal nie eers meer leer om oorlog te voer nie (Jes. 2:4). Die valse godsdienste sal almal uitgeroei word (Sag. 13:2) en al die volke sal Christenvolke wees en nie meer wandel na die verharding van hul bose harte nie (Jer. 3:17). Dit sluit ook die huidige Moslemlande in, waarin ‘n oorblyfsel ná die oordele van die groot verdrukking gered sal word. Jesaja sê dat Egipte en Assirië (die huidige Sirië en Irak) die Messias net so heelhartig soos Israel sal dien en sy lof oral sal verkondig (Jes. 19:22-25).

Eindtydse profesieë gaan basies oor die openbaring van Jesus Christus se hemelse koninkryk. Dit behels ook sy vaste en sekere optrede van straf en oordeel teenoor die opponerende koninkryk van die duisternis wanneer Hy kom. Die Here Jesus sal uit die hemel geopenbaar word “in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van ons Here Jesus Christus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here” (2 Thess. 1:7-9).

Die werkers van ongeregtigheid sal weet dat Jesus Christus sy oordele oor ‘n onbekeerlike wêreld uitstort (Op. 6:12-17), maar die oorgrote meerderheid sal steeds weier om hulle te bekeer (Op. 9:20-21; 16:9). Hy bied egter nog steeds sy genade aan almal om gered te word. Diegene wat dit aanhoudend verwerp, sal die haglike gevolge hiervan moet dra (Heb. 10:31).

24. Die episentrum van die wêreld

‘n Messiaanse Jood, Joel C. Rosenberg, het ‘n boek met die titel Epicenter geskryf. Hierin word die stygende spanning in die Midde-Ooste dramaties beskryf as ‘n voorspel tot die groot oorlog van Esegiël 38 en 39. Die woord episentrum (Grieks: epi-kentros) beteken in of op ‘n middelpunt. Joel Rosenberg gebruik hierdie begrip om aan te toon dat Israel die middelpunt van die aarde is, dat Jerusalem die middelpunt van Israel is, en dat die Tempelberg wat deel van die berg Sion is, die middelpunt van Jerusalem is. Aansienlike spanning is toenemend besig om in die episentrum van die wêreld op te bou. Aan die een kant van die stryd is daar Israel en die Christendom, en aan die ander kant die Moslems en hulle bondgenote. Vir al hierdie gelowe is Jerusalem ‘n heilige plek:

Vir die Jode is Israel ‘n godgegewe land (Gen. 13:14-15), met Jerusalem as die 3000-jaar oue hoofstad daarvan. Die Here het hierdie stad verkies om sy Naam vir altyd daar te vestig (1 Kon. 9:3 en 11:36). Salomo het die eerste tempel op die Tempelberg gebou. Dit is deur Nebukadnésar verwoes en weer ná die Babiloniese ballingskap herbou, maar het later vervalle geraak. Herodes het die tweede tempel hier gebou, maar dit is in 70 na Christus deur die Romeine verwoes. Tans beplan ortodokse Jode om die derde tempel hier in die episentrum te bou, want dit mag nie op enige ander plek gebou word nie (2 Kron. 3:1; Esra 6:7).

Die Christene beskou Jerusalem as ‘n heilige plek en die oorsprong van hulle geloof omdat Jesus hier vir ons sonde gely het, gekruisig is en uit die dood opgestaan het. Die Heilige Gees is hier uitgestort en dit het na die formele begin van die Christelike kerk in Jerusalem gelei. Die Here Jesus het van Jerusalem af na die hemel opgevaar en kom met sy wederkoms weer na hierdie stad toe terug (Hand. 1:8-12; Sag. 14:4-5).

Vir die Moslems is Jerusalem die derde heiligste plek ná Mekka en Medina. Twee van hulle beroemde moskees staan op die Tempelberg, nl. die Rotskoepel en die Al Aksa-moskee. Hulle streef daarna om ‘n Islamitiese wêreldstaat in die Midde-Ooste te vestig, met Jerusalem as hoofstad.

Die Tempelberg is inderdaad die episentrum, of geestelike hart, van Jerusalem, Israel en die hele wêreld. ‘n Belangrike perspektief wat Joel Rosenberg nie in sy boek bespreek nie, is die beloftes oor ‘n ten volle geopenbaarde, teokratiese regeringstelsel wat met die wederkoms van Jesus Christus in die wêreld se episentrum in Israel gevestig gaan word. Jerusalem sal die setel van ‘n Messiaanse wêreldregering in die Millennium wees, en Christus sal van die herstelde troon van Dawid af regeer.

Dit is belangrik om te weet dat die bedeling van die wet in die Ou Testament net ‘n skaduagtige voorbereiding vir die koms van die Messias was: “Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade... kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree tot volmaaktheid lei nie... want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem... Toe het Ek [die Messias] gesê: Kyk, Ek kom...  om u wil te doen, o God... Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Heb. 10:1-4,7,10). Al die offers in die tempeldiens was tipologiese heenwysings na die eenmalige, volmaakte offer van die Lam van God wat die sonde van die hele wêreld wegneem (Joh. 1:29

Enige poging om die episentrum te definieer as iets minder as die Messias, Jesus Christus, kom op afgodediens neer. As ons enigiets of enigiemand bo Hom liefhet, is ons Hom nie waardig nie. Ortodokse Jode is geneig om die Tempelberg slegs as die tuiste van die tempel te sien, wat hulle wil herbou sodat die Ou Testamentiese offerdiens hervat kan word. Hulle weier om te erken dat die diereoffers vervul en afgeskaf is deur die eenmalige offer van die Lam van God. Die wet en die tempeldiens is so lewensbelangrik vir hulle, dat hulle selfs vir ‘n Messias wag wat hulle sal help om dit te herstel. Wie is hierdie “Messias” wat hulle sal help om die Derde Tempel te bou, sodat die volk kan voortgaan om die eenmalige offer aan die kruis te verwerp? Hy is die bedrieër, of Antichris, wat die tempel sal ontheilig deur homself in die Allerheiligste tot God te verklaar en ook ‘n beeld van homself in die tempel te plaas (Dan. 9:27; 2 Thess. 2:4; Op. 13:15). Hierdie grootste afgod in die ganse geskiedenis van Israel, sal verdelg word wanneer die ware Messias kom. Niemand anders nie as Emmánuel is die verlossing en episentrum van Israel en die wêreld.

Die groot deurbraak wat hierdie wonderlike nuwe bedeling moontlik sal maak, is die wederkoms van Israel se Messias-Koning, Jesus, wat ook die Verlosser en Koning van die hele wêreld is. Sagaria sê: “Dan sal die Here my God [Jahweh my Elohim] kom, al die heiliges met U” (Sag. 14:5). Jesus Christus word hier in sy godheid beskryf as Here en God. Paulus sê tereg oor Hom: “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9). Hy sal sy troon in Jerusalem vestig, want hiervoor was Hy nog altyd bestem (Luk. 1:32). Jerusalem sal dan die vervulde episentrum van Israel én die wêreld wees. Die Messias sal daar wees en die stad sal tot ‘n lof op aarde verhef word (Jes. 62:6-7). Alle nasies sal opgaan om die Here Jesus in die “stad van die groot Koning” te eer en te aanbid (Jes. 2:2-4; Ps. 48:3).

Ná die skepping van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde sal die nuwe Jerusalem uit die hemel neerdaal op die nuwe aarde om die episentrum van die heelal te wees. Dit sal die tuiste van al die heiliges wees. God sal vir altyd by ons woon en sy heerlikheid sal tot by die eindes van die aarde skyn. Johannes beskryf die uitnemendheid van hierdie stad só: “En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin” (Op. 21:22-24).

25. Die Voleinder van ons geloof

Vir diegene wat geestelik ontwaak het en in die geloof lewe, behoort die Here Jesus ‘n groot werklikheid te wees: “Geloof is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie... Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:1,6). Ons moet leef soos mense wat die Onsienlike sien (Heb. 11:27). Hoe doen ons dit? Terwyl ons in die kerkbedeling in ‘n geestelik donker wêreld leef wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19; Gal. 1:4), moet ons ag slaan op Bybelse waarhede en nooit die Here Jesus verloën nie (Op. 3:8). Ons moet deur die voorbeeld van ander geloofshelde geïnspireer word, nougeset sorg dat ons nie weer deur sonde verstrik raak nie, en vasberade op die einddoel van ons vereniging met Christus afstuur:

“Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof... Julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:1-4).

Jesus Christus moet die sentrale fokus en einddoel van ons lewens wees, daarom moet ons geloofsoë ten alle tye op Hom gevestig wees. Gedurende die dae van ons vreemdelingskap in ‘n bose wêreld leef ons deur die geloof – nie deur aanskouing nie. Die Here Jesus is deur sy Gees in en by ons tot aan die voleinding van die wêreld (Matt. 28:20), maar liggaamlik is Hy nie hier nie. Hy moet egter so ‘n vaste, geestelike werklikheid vir ons wees dat ons gedagtes bo in die hemel sal wees waar Hy altyd leef om vir ons in te tree (Kol. 3:1-2; Rom. 8:34; Heb. 7:25). Ons moet verlangend uitsien na die dag wanneer Hy ons kom haal, want dan sal ons Hom sien soos Hy is (1 Joh. 3:2).

Wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal, kom Hy “om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10). Ons sal Hom aansien en straal van vreugde (vgl. Ps. 34:6). Hy wat sedert ons redding so ‘n groot geestelike werklikheid in ons lewe was, sal dan ‘n sigbare werklikheid wees en ons sal sy heerlikheid in verwondering aanskou. “En so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:17).

Die lydende Christus is ook die oorwinnende Christus wat bestem is om die wêreld te regeer. As ons ernstige volgelinge van Hom is, sal ons weet dat die pad na uiteindelike heerlikheid by die kruis begin. Slegs die volle verwesenliking van die doel van sy eerste koms kan ons laat kwalifiseer om by sy tweede koms erfgename van sy ewige hemelse koninkryk te wees en saam met Hom, as die Koning van die konings, te regeer.

Die tragedie van ‘n lewe buite Christus

In die lig van die unieke en lewensbelangrike rol van die Here Jesus as Verlosser, gaan die roepstem nog steeds met groot dringendheid uit na alle sondaars en vormgodsdienstiges op aarde: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28). Christus is die middelpunt van die heelal, en ons kan slegs sin en betekenis aan ons lewe gee, en terselfdertyd ware gemoedsrus beleef, indien Hy ook die middelpunt van ons eie lewe is. Die tragedie van ‘n lewe buite Hom blyk uit die volgende omstandighede wat veroorsaak word deur vervreemding weg van Hom af:

  • Die mens kan glad nie aan sy skeppingsdoel van gelykvormigheid aan die beeld van God voldoen as Christus nie sy verdorwe hart verander en aan hom ‘n nuwe lewe gee nie. Sonder hierdie geestelike vernuwing is verlore mense op ‘n eindelose en onvervulde soektog na ware geluk, na oplossings vir hulle probleme, en na oorwinning oor onversadigbare hartstogte en begeertes waardeur hulle oorheers word. Sonder die kruis van Christus sal die ou natuur met sy verkeerde neigings nie sterf nie. Mense se verdraaide, arrogante of swak selfbeeld sal ook nie regkom voordat hulle ten volle met Jesus Christus identifiseer nie. Net Hy kan ons verdorwe natuur wesenlik verander en ons daarna as Christene ook volkome maak, vir elke goeie werk volkome toegerus.
  • Sonder geloof in die Here Jesus as die Skepper van alle materie en lewe, kan mense nie die wêreld en heelal waarin hulle leef, verstaan nie. Omdat hulle nie ‘n Bybelse skeppingsleer aanvaar nie, wend hulle hul tot die evolusieteorie wat ná meer as ‘n eeu van spekulasie nog nie bewyse van transisionele spesies kon vind nie – spesies bly soortgebonde en die een ontwikkel beslis nie uit die ander nie. Omdat evolusioniste nie glo dat God hulle deur Jesus Christus geskape het nie, aanvaar hulle ook nie ‘n morele verantwoordelikheid teenoor Hom oor hoe hulle moet lewe nie. As gevolg van hierdie agnostisisme verbeur hulle sy herskeppingswerk in hulle lewens en al die toekomstige wonders van ‘n nuwe skepping wat Hy aan gelowiges belowe.
  • Daar word nasionale tragedies deur volke geskep wat nie die oppergesag van God erken en Christelike grondwette aanvaar nie. Hulle verhef die verdorwe mens en verskans vele sondes in hulle humanistiese grondwette. Hulle voer ook ‘n eindelose stryd teen korrupsie, omdat hulle die enigste grondslag vir ware moraliteit verwerp het, naamlik Jesus Christus en die nuwe lewe wat Hy aan ons  bied. Hulle bewerk die ondergang van hulle volke: “Geregtigheid verhoog ‘n volk, maar die sonde is ‘n skandvlek vir die nasies” (Spr. 14:34). Die voormalige kommunistiese wêreld (wat nou nog in Sjina voortleef) het moreel en kultureel totaal in duie gestort omdat hulle die Drie-enige God verloën het, asook sy instellings vir gemeenskaps- en gesinslewe. Die Islamitiese wêreld verwerp ook die Drie-enige God en is besig om in die grootste verwarring te verval weens die godsdienstige regverdiging van geweld, asook die koorsagtige najaag van aardse rykdom. Die Westerse wêreld het ook die rug op Christus gedraai deur die verwerping van Christelike grondwette ten gunste van sekulêre of multigodsdienstige grondwette. Hulle betaal reeds die prys hiervoor, naamlik wydverspreide morele verval, asook onbeheerde korrupsie, ernstige ekonomiese probleme, en ‘n duur wapenwedloop weens die toenemende militêre konflikte waarby hulle betrokke raak. Hulle intervensie in lande soos Irak, Afghanistan en Libië kan nie uit ‘n Bybelse oogpunt geregverdig word nie, dit is nie Christelik van aard nie en kan gevolglik nie positiewe gevolge hê deur die Christelike beskawing te bevorder nie.
  • Die tragedie van ‘n lewe buite Christus is nêrens duideliker as in die geval van Israel nie – die volk waarin die Messias as mens gebore is (Rom. 9:5). Hy wou die inwoners van Jerusalem (die kern van die Joodse volk) rondom Hom versamel om die middelpunt van hulle bestaan te wees. Dit sou egter beteken het dat hulle Hom as hulle Messias-Koning moes aanvaar, maar hulle wou nie (Matt. 23:37). Die gevolg hiervan was die totale verwoesting van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van Israel vir bykans tweeduisend jaar (Luk. 21:20-24). In hierdie tyd was ‘n dooie, wettiese, vormgodsdiens die middelpunt van hulle bestaan. Israel het hierdie geestelike verblinding oor hulleself gebring omdat hulle nie die Messias as die enigste lig van die wêreld wou aanvaar nie (Rom. 11:25). Dit is wat ongeloof en die verwerping van Christus aan individue én volke kan doen. Ons word gewaarsku om nie dieselfde te doen nie. Israel is weens ongeloof van die olyfboom afgekap en ons is deur geloof in die boom ingeënt: “Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie” (Rom. 11:20-21). Israel het slegs ‘n toekoms indien hulle die Messias aanvaar en Hom die absolute middelpunt van hulle godsdienstige, kulturele én politieke lewe maak. Net ‘n oorblyfsel Jode sal dit doen nadat die volk in die verdrukking byna uitgewis sal word (Sag. 12:10; 13:8-9).
  • Dit is ook vir individuele Christene én selfs hele gemeentes moontlik om van hulle middelpunt af weg te beweeg en gevolglik geestelik te veragter in die genade. Dit het ook tragiese gevolge. Die loot wat nie in die wynstok (Jesus Christus) bly en elke dag uit Hom leef nie, dra geen vrugte nie en verdroog mettertyd. Indien hierdie proses nie omgekeer word nie, kan die loot uiteindelik in die vuur beland (Joh. 15:4-6). Hierdie beginsel geld ook vir gemeentes. Baie van hulle verlaat hulle eerste liefde en loop as gevolg daarvan gevaar om in geestelike duisternis te beland (Op. 2:4-5). Ons kan nie openhartig oor Jesus Christus praat as die Heilige Gees nie aan ons die nodige vrymoedigheid gee nie (1 Kor. 12:3). Praat jy baie óór Hom en ook mét Hom? Neem jy sy Woord ernstig en letterlik op? Onthou dat Hy die vleesgeworde Woord is (Joh. 1:14), en een van sy name is: “Die Woord van God” (Op. 19:13). In Hom is al die beloftes in die Woord ja en amen (2 Kor. 1:20). Dit sluit die belofte in oor sy geheime koms as Bruidegom (Matt. 25: 6; 1 Thess. 4:16-17), en ná die verdrukking sy openbare verskyning as Koning van die konings wanneer elke oog Hom sal sien (Op. 19:11-21).

Slot

Dit is verbasend hoe baie mense steeds van die Here Jesus af wegskram. Dit is duidelik dat die groot meerderheid mense wat nie in die regte verhouding met Hom is nie, baie ongemaklik oor Hom voel. Moontlik kla hulle eie gewete hulle aan oor hulle afsydigheid teenoor Hom. Dit is die rede waarom hulle verkies om meesal van vae en onpersoonlike terme gebruik te maak wanneer hulle na die Here Jesus en sy hemelse Vader verwys.

Dit is algemeen dat mense net van ‘n vaag geïdentifiseerde “God” of “Hoërhand” praat wat almal moet seën, sonder om uitdruklik aan te dui dat dit die Drie-enige God is: Vader, Seun en Heilige Gees. Wanneer hulle van die Here Jesus praat, verkies hulle om so formeel en onpersoonlik as moontlik net van sy ampsnaam “Christus” (die “Gesalfde”) gebruik te maak, of slegs sy persoonsnaam “Jesus” uit die tyd voor sy kruisiging, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees, toe dit nog nie eers onder sy dissipels algemeen bekend was dat Hy ook Here en God is nie. Soos vir baie van die skrifgeleerdes in die tyd van Jesus, is daar ook baie naamchristene van ons tyd vir wie die sogenaamde "historiese Jesus" net ‘n gewone, sterflike mens en hoogstens ‘n profeet was – nie die Seun van God nie. Vir hulle is Hy net “Jesus” en niks meer nie.

Ná die uitstorting van die Heilige Gees was dit onder Jesus se volgelinge algemeen bekend dat Hy ook Here en God is. Op die tweede Sondag ná sy opstanding het Thomas Hom aangespreek en gesê: “My Here en my God!” (Joh. 20:28). Paulus verwys dikwels na Hom as die “Here Jesus” en koppel daardeur sy persoonsnaam aan sy naam as Here of God. Dit skakel alle twyfel uit oor wie Hy werklik is. Aan Titus skryf Hy dat Jesus Christus ons “grote God en Verlosser” is (Tit. 2:13). Petrus verwys in groot eerbied na Hom as “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1), terwyl Johannes Hom beskryf as “die waaragtige God en ewige lewe” (1 Joh. 5:20).

‘n Persoon so belangrik soos die Here Jesus moet op ‘n konkrete, duidelike en eerbiedwaardige manier beskryf en aangespreek word. Hy is die begin en einde van alles, die middelpunt en onderhouer van God se skepping, en die bepaler van individue en volke se lotgevalle. Die geskiedenis van die mensdom, asook ons profetiese toekoms, kan nie sonder Hom verstaan of verklaar word nie. Die vrye wil wat alle mens het, maak dit vir hulle moontlik om óf volgelinge óf vyande van die Here Jesus te wees, en die besluite wat hulle oor Hom neem, staan in ‘n direkte verband met dit wat in die toekoms met hulle gaan gebeur. Ons is morele en geestelike wesens met ‘n vrye wil, en dit is onbegryplik waarom daar so baie mense is wat die belangrike onderwerp van ons verhouding met Jesus Christus vermy.

Diegene wat wel met Jesus Christus identifiseer, moet baie seker maak dat hulle Hom nie net as deel van ‘n algemene Christelike tradisie aanvaar en bely, sonder dat hulle ‘n ontmoeting met Hom gehad het wat na wedergeboorte lei nie, want dit sal van hulle ongeredde naamchristene maak. Sulke mense is nominale gelowiges wat ‘n skynheilige lewe lei en nie regtig die wil van die Here doen nie. Hulle sal tevergeefs eendag voor die groot wit troon op Christenskap aanspraak maak, en onder hulle sal ook ongeredde predikante en teoloë wees: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer [‘gepreek’ volgens die NAB] en in u Naam duiwels uitgedryf en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Matt. 7:22-23).

Die persoonlike verhouding wat baie van die Here Jesus se ware dissipels met Hom handhaaf, laat dikwels ook veel te wense oor. Daar kom soms verwydering tussen hulle en Hom wanneer hulle begin afkoel in hulle geestelike lewe (vgl. Matt. 24:12). Sommige van hulle raak wêreldgesind en dien nie meer die Here van harte nie. As hulle so voortgaan, sal hulle dalk eendag met leë hande voor Hom verskyn, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15). Andere verval nog verder en verloor selfs hulle vroeëre liefde vir die Here Jesus. Hy roep sulke gelowiges op tot bekering uit hulle afvallige toestand, anders loop hulle gevaar om hulle kandelaar (die Heilige Gees) heeltemal te verloor (Op. 2:4-5).

Bly in die Here Jesus, wandel deur die Gees, dra vrugte wat by die bekering pas, en berei jouself deur persoonlike heiligmaking voor om binnekort voor die hemelse Bruidegom te verskyn. Wie kan die heerlikheid beskryf van die ivoorpaleis waarin die bruilof van die Lam gehou gaan word? Sy bruid sal met hemelse prag beklee wees:

“U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig... God het U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle. Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly. Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir... Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei... Hulle gaan in die Koning se paleis in” (Ps. 45:3-16).

Ons moet moed skep en volhard, want die einde gaan heerlik wees. In hierdie bedeling volg ons die lydende Christus wat deur die wêreld verwerp word, maar as ons bereid is om saam met Hom te ly, sal ons ook saam met Hom verheerlik word (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12).

Almal van ons het nodig om meer van die Here Jesus te maak en Hom absoluut in die middelpunt van ons denke en lewe te plaas, ook van ons ideale en toekomsverwagting. Die goddeloses moet weet dat hulle verwerping van Hom na ongekende oordele gaan lei. Christene moet ook nie oorgerus wees nie, want baie van hulle het Jesus Christus en sy koninkryk tot hulle eie nadeel gemarginaliseer en deur ander doelstellings vervang. Sulke gelowiges stuur daarop af om met leë hande voor sy regterstoel te verskyn.

Die tyd van afrekening is baie naby: “U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Op. 11:18). In hierdie tyd sal Jesus Christus groot mag aanneem en as koning heers (Op. 11:15-17). Elkeen van ons het ‘n keuse om die Here Jesus as Verlosser aan te neem en by sy raadsplan vir die mensdom in te skakel, of om onsself by sy teëstanders te skaar oor wie sy toorn uitgestort gaan word.

Ons sal ‘n duidelike keuse oor ons huidige lewe én ons eindbestemming moet maak, want daar is geen middeweg tussen die smal pad en die breë pad nie. Jesus Christus is self die smal pad hemel toe – Hy is die nou poort deur wie ons moet ingaan om op die regte pad te kom (Joh. 10:9). Dit vereis ‘n eerlike belydenis en versaking van sondes as ons deur die nou poort wil ingaan: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Luk. 13:24). Die Here Jesus maak nie kompromie met sonde nie en vereis dat ons totaal moet breek met ons verlede. Hy is ons verlossing (deurgang deur die nou poort) en ook ons heiligmaking (die toegewyde bewandeling van die smal pad).

Op die breë pad is dié wat deur die valse Jesus (die Antichris) en sy vader, Lucifer, mislei is om na ander maniere van geestelike vervulling – en ook na ‘n ander verlosser – te soek. Al hierdie dwaalweë is deel van die breë pad hel toe, en is besig om in ‘n multigodsdienstige alliansie van valse wêreldgodsdienste bymekaar aan te sluit. Die tyd is min om op die regte pad te kom deur gehoor te gee aan Christus se roepstem om gered te word (Matt. 11:28). Die groot doel waarvoor Hy mens geword en ‘n plaasvervangende dood aan die kruis gesterf het, was om ‘n verlore mensdom te red en hulle op die enigste ware pad hemel toe te plaas: “Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk. 19:10).

Wat ook al jou keuse in verband met Jesus Christus en sy evangelie van verlossing, die feit bly staan dat Hy die absolute middelpunt van die heelal is, en jy kan niks beter doen nie as om sy aanspraak op opperheerskappy te erken en Hom ook die middelpunt van jou lewe te maak. Uiteindelik sal alle mense moet bely dat Jesus Christus Here oor alles is, maar ongelukkig sal baie van sy teëstanders eers die knie voor Hom buig wanneer dit té laat is om gered te word. Dit is oneindig beter om sy gesag nou te erken, en om te besef dat hierdie liefdevolle Koning Homself grootliks verneder het om aan die eise van jou verlossing te kan voldoen:

“Hy het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Fil. 2:7-11).

Epiloog

In die lig van hierdie artikel is daar net een wyse besluit wat enige mens op aarde kan neem, en dit is om die Here Jesus die middelpunt en hoogste doel van sy lewe te maak. Kyk watter groot verskil ‘n besluit van hierdie aard in die lewe van ‘n geloofsheld soos Paulus gemaak het: dit het hom verander van ‘n selfregverdigende wetsgeleerde wat Christus vervolg het, tot ‘n getroue dissipel van Jesus wat gesê het: “Vir my is die lewe Christus” (Fil. 1:21). Die enigste doel van sy lewe was om Christus aan ‘n verlore wêreld te verkondig (Hand. 20:24). Hy het so volkome in hierdie nuwe lewe opgegaan, dat hy selfs bereid was om vir Christus te sterf, want niks was vir hom belangriker nie, nie eers sy eie lewe nie (Hand. 21:13).

Kyk ook watter verskil ‘n besluit van hierdie aard op nasionale vlak in die lewe van ‘n volk kan maak. Vergelyk maar die tyd van Israel se nasionale verwerping van die Messias die afgelope 2000 jaar en hulle gevolglike geestelike blindheid, met profesieë oor hoe hierdie volk se lewe in die komende Millennium daar sal uitsien nadat hulle met die Messias versoen is. Hulle sal nie meer ‘n omstrede, sukkelende volk wees wat met hulle rug teen die muur leef nie, maar die voorste getuies vir die Messias, wat ‘n wêreldhervormende rol sal speel (Jes. 27:6). Neem verder in ag watter geweldige verskil die Messias in verwarde en misleide Moslemlande soos Egipte en Sirië kan maak nadat hulle op nasionale vlak met Hom versoen is (Jes. 19:22-25). Presies dieselfde beginsel geld ook vir alle ander volke, daarom sal toestande in die Millennium drasties anders wees as nou (Jer. 3:17; Sag. 8:20-23).

Waarom wag die meeste mense eers totdat hulle Jesus Christus op die wolke sal sien kom, voordat hulle Hom as Verlosser en Koning aanvaar en hulle lewe ten volle aan Hom oorgee? Ons word voor die groot uitdaging gestel om nou, te midde van groot teëstand vanuit ‘n geestelik verblinde en misleide wêreld, skynende ligte vir die Messias te wees. Jy moet nóú die ontdekking maak dat Hy die enigste Redder van die wêreld is (Hand. 4:12), en dat bekering en wedergeboorte net die begin is van ‘n nuwe lewe in Hom – daarna moet jy Hom daagliks volg en dien. Ek kan net ‘n goeie voorbeeld en herder vir ander mense wees indien ek die leiding van die Opperherder getrou navolg (1 Pet. 5:2-4; 1 Kor. 11:1).

Vir wysheid oor die kompleksiteit van die lewe kan ons net na Christus toe gaan, “in wie alle skatte van wysheid en kennis verborge is” (Kol. 2:3). Om ‘n heilige lewe te kan lei, kan ons niks beter doen as om sy voorbeeld na te streef en in sy voetstappe te volg nie (1 Joh. 2:6; 1 Pet. 2:21), want Hy is die hoogste uitdrukking van ‘n moreel regverdige lewe. Gesagstrukture in die samelewing kan ook net reg funksioneer indien Christus se oppergesag erken word. Wanneer ons in alle opsigte van ons bestaan in Christus bly, sal ons vrymoedigheid hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom af weggaan by sy wederkoms nie (1 Joh. 2:28).