Print

Drie Belangrike Geslagte in Bybelse Profesieë

Written by Prof Johan Malan.

Baie Christene het ‘n groot belangstelling in Bybelse profesieë, en het meer as genoeg redes hiervoor. Die dramatiese vervulling van verskeie tekens van die tye is ‘n aanduiding dat ons beslis in die eindtyd leef en ‘n korttermyn verwagting behoort te hê op die koms van die hemelse Bruidegom vir sy bruid (Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-18). Benewens ‘n wye reeks tekens van die tye het ons selfs die versekering dat daar ‘n laaste geslag sal wees wat nie sal verbygaan voordat alles gebeur het nie (Luk. 21:32; Matt. 24:34). Hoe moet ons hierdie belangrike profesie verstaan?

In die studie van Bybelse profesieë is daar twee uiterste vorms van skrifuitleg wat altyd vermy behoort te word. Die een is die gedwonge eksegese van profesieë wat na datumbepaling lei, en die ander een is die ongeregverdigde vergeesteliking of allegorisering van profesieë, waardeur hulle feitlik betekenisloos gemaak word omdat hulle basiese inhoud verander of ontken word. Ons behoort die letterlike metode van verklaring te volg, wat as die grammaties-historiese metode bekend staan. Die gewone betekenis van ‘n woord moet verklaar word in die historiese of kulturele verband waarin dit gebruik word.

Die sterkste bewys wat ons vir die letterlike verklaringsmetode het, is die manier waarop die Nuwe Testament van die Ou Testament gebruik maak. Goeie voorbeelde hiervan is die baie profesieë oor die geboorte, lewe, werke en dood van Jesus Christus wat almal letterlik in die Nuwe Testament vervul is. Ná die koms van Christus het die meeste Jode, maar veral hulle leiers, die baie profesieë oor Hom geïgnoreer en was gevolglik nie in staat om Hom as die Messias te herken nie. Israel het ‘n duur prys vir hierdie verwaarlosing van die profesieë betaal (Luk. 19:43-44).

Ons moet daarteen waak om nie dieselfde fout te maak nie. Dit is uiters belangrik om op die tekens van die tye ag te slaan (Matt. 16:2-3), veral dié wat betrekking het op Israel, Jerusalem en die eindtydse benoudheid van die nasies: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28). Bybelse profesieë is en sal almal letterlik vervul word!

‘n Laaste geslag

Die Here Jesus verwag van ons om ag te slaan op gebeure wat die nabyheid van sy wederkoms aandui, en noem selfs ‘n “geslag” wat nie verby sal gaan voordat alles gebeur het nie (Luk. 21:32). In die lig van hierdie versekering moet ons kennis neem van Bybelse verwysings na die laaste geslag, wat geassosieer word met die vervulling van profesieë oor die herstel van Israel as ‘n volk, Jerusalem se bevryding uit vreemde oorheersing, die wegraping van die kerk, die sewe jaar lange verdrukking met sy uitgebreide reeks apokaliptiese gebeure, asook die wederkoms van Christus wanneer elke oog Hom sal sien (Matt. 24:15-51; Luk. 21:25-36; Op. 1:7; 19:11-16). Die wederkoms van Christus wanneer Hy sy voete op die Olyfberg in Jerusalem sal sit, sal die einde meebring van hierdie bedeling se laaste geslag.

Daar is verskillende definisies vir die begrip “geslag”, afhangende van die verband waarin die Bybel die woord gebruik. Die begrip “geslag” dui in die oorspronklike tale dikwels ‘n groep mense aan – ‘n familie, stam, volk of verskeie ander groepe, bv. ‘n bose en ongelowige geslag mense (Luk. 11:29). In die meeste gevalle het dit egter betrekking op ’n bepaalde ouderdomsgroep binne ‘n samelewing, stam of volk. In hierdie sin is daar ‘n chronologie, of opeenvolging, van geslagte soos wat ouer geslagte deur jongeres gevolg word. Dit is in hierdie verband dat daar in Matthéüs 1:17 staan: “Al die geslagte van Abraham tot Dawid is 14 geslagte.”

In dieselfde volk is daar dus voortdurend nuwe geslagte wat met die verloop van tyd kom en gaan. Hierdie geslagte oorvleuel mekaar omdat die ou en jong geslag in enige samelewing vir ‘n sekere aantal jare saam bestaan. In die Bybel word daar ‘n duidelike onderskeid getref tussen die volwasse geslag en die jong geslag, waarvan laasgenoemde uit minderjarige kinders of jongmense bestaan. In die meeste gevalle spreek God die volwasse geslag aan, omdat hulle aanspreeklik gehou word vir die toestand van die volk se godsdienstige lewe en moraliteit.

‘n Geslag dui nie op ‘n rigied vasgestelde tydperk nie, omdat sekere geslagte korter of langer as ander is. Desnieteenstaande is dit ‘n redelik duidelik gedefinieerde tydperk wat nie buite sy uiterste grens verleng kan word nie. Wanneer daar van die hele leeftyd van ‘n geslag sedert geboorte gepraat word, word ‘n tydperk van omtrent 70 jaar bedoel, maar dit mag selfs tot by 80 verleng word: “Die dae van ons jare – daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar” (Ps. 90:10). ‘n Volwasse geslag verwys gewoonlik na ‘n tydperk van omtrent 40 jaar tussen die ouderdomme van 30 en 70 jaar. Die Levitiese priesters kon eers op die ouderdom van 30 in hul ampte aangestel word (Num. 4:3), asook die rabbi’s in later tye. Jesus kon as ‘n Joodse man ook eers op 30-jarige ouderdom met sy bediening begin (Luk. 3:23). Dawid se jare van aanspreeklikheid was tussen 30 en 70: “Dertig jaar was Dawid oud toe hy koning geword het; veertig jaar het hy geregeer” (2 Sam. 5:4). Die priesters en skrifgeleerdes wat ná die Babiloniese ballingskap in die Joodse Raad (die Sanhedrin) gedien het, kon eers aangestel word nadat hulle 30 geword het. Hierdeur is daar benewens godsdienstige, ook politieke betekenis aan die ouderdom van 30 verleen.

Met die verloop van tyd is daar verskeie geslagte wat mekaar opvolg. In die kerkbedeling was daar ‘n baie betekenisvolle eerste geslag ná die vestiging van die kerk, en dit is logies dat daar ook ‘n baie belangrike laaste geslag aan die einde van hierdie bedeling sal wees. Die Bybel verwys dikwels na gebeure in hierdie twee kritieke geslagte.

In die lang geskiedenis van Israel is daar drie geslagte wat uitgesonder word as baie belangrik. Hulle is: (1) die geslag mense wat uit Egipte bevry is en 40 jaar lank deur die woestyn getrek het; (2) die geslag wat Israel se Messias verwerp het en as gevolg daarvan afgestuur het op die vernietiging van Jerusalem en die lang, internasionale verstrooiing van Israel; en (3) die geslag waarin Israel in die eindtyd in die land van hulle vaders herstel sou word ter voorbereiding op hulle geestelike herstel as die uitverkore volk. Die laaste twee van hierdie drie geslagte val saam met die eerste en laaste geslag van die kerkbedeling. Die drie belangrike geslagte in Israel se geskiedenis is die volgende:

Die eerste geslag: volksplanting

Lede van die volwasse geslag wat uit Egipte na die Beloofde Land gelei is, was 20 jaar of ouer. In daardie stadium is volwassenheid op die ouderdom van 20 bereik wanneer jongmanne militêr dienspligtig geword het (Num. 26:2,4). Dit moet duidelik verstaan word dat slegs die volwasse geslag Israeliete (die wat 20 of ouer was) deur die Here aanspreeklik gehou is vir hulle rebellie teen Hom, en as gevolg daarvan in die woestyn gesterf het: “Waarlik, geeneen van die manne wat uit Egipte opgetrek het, van twintig jaar oud en daarbo, sal die land sien wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het nie; want hulle het nie volhard om My te volg nie – behalwe Kaleb... en Josua... want hulle het volhard om die Here te volg. En die toorn van die Here het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerwe, totdat die hele geslag verteer was wat kwaad gedoen het in die oë van die Here” (Num. 32:11-13).

As gevolg van hulle opstandigheid teen die Here het feitlik al die lede van hierdie geslag aan onnatuurlike oorsake in die woestyn gesterf. Net twee lede van die volwasse geslag, Kaleb en Josua, was waardig om die omswerwinge in die woestyn te oorleef en die Beloofde Land in besit te neem sewe jaar nadat hulle oor die Jordaanrivier getrek het. Josua sê dat hy 40 jaar oud was toe hy as een van die verspieders deur Moses van Kades af gestuur is, m.a.w. hy was 38 tydens die uittog uit Egipte. Op 85-jarige ouderdom (40 plus 7 jaar ná die uittog) het hy die Beloofde Land onder die stamme van Israel verdeel (Jos. 14:7,10). In totaal het daar dus 67 jaar verloop sedert die geboorte van die geslag wat uit Egipte bevry is, totdat die land aan hulle toegeken is. Indien die volwasse geslag wat in die woestyn gesterf het, nie in ongehoorsaamheid verval en omgekom het nie, sou meer van hulle die land saam met Josua en Kaleb beërf het.

Die tweede geslag: internasionale verstrooiing

In Nuwe Testamentiese tye het die gebeure wat na die internasionale verstrooiing van die Jode gelei het, plaasgevind binne die leeftyd van ‘n geslag mense wat deur God aanspreeklik gehou is omdat hulle die Messias verwerp het. Ons verwys hier na ‘n volwasse geslag van omtrent 40 jaar. Deur hulle finale daad van rebellie teen God het hierdie geslag, wat tydgenote van Jesus was, die maat van hulle vaders se sonde volgemaak en die prys vir die kumulatiewe ongeregtigheid van die volk betaal (Matt. 23:31-35). Jesus het vir hulle gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:36-38).

Die vernietiging van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van Israel hou direk verband met die verwerping van Jesus as Messias. Hy het die inwoners van Jerusalem ernstig gewaarsku: “Want daar sal dae oor jou [Jerusalem] kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:43-44). Hy het verder oor die inwoners van die land geprofeteer: “Hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).

Die volwasse geslag aan wie Jesus hierdie woorde in die jaar 32 gerig het, is in 2 n.C. of vroeër gebore, en sou die vervulling van hierdie profesieë tydens die 40 jaar van hulle volwasse lewe tussen 32 en 72 n.C. beleef. Jesus het hulle gewaarsku dat die vernietiging van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van die Jode in hulle leeftyd sou plaasvind. Jerusalem is in 70 n.C. vernietig en in die daaropvolgende twee jaar is duisende krygsgevangenes na Rome weggevoer, terwyl baie van hulle as slawe verkoop is in Egipte en ander lande. Teen 72 n.C., 40 jaar nadat Jesus die oordele voorspel het wat daardie ongelowige geslag sou oorval, was elke woord letterlik vervul. Die totale ouderdom van daardie geslag was omtrent 70 jaar, insluitend die 30 jaar van ontwikkeling tot die volwasse fase voor die kruisiging van die Messias.

Die volwasse geslag tussen 32 en 72 n.C. was terselfdertyd die eerste geslag van die Christelike bedeling, en was dus ‘n oorgangstydperk tussen Israel en die kerk. Gedurende die tyd van hierdie geslag sou Israel uitgefaseer word deur middel van die vernietiging van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van die volk as gevolg van die verwerping van die Messias, terwyl die kerkbedeling onder die nie-Joodse nasies deur verskeie sendingpogings ingefaseer is. Die sendbriewe aan die Nuwe Testamentiese kerk is tussen 40 en 69 n.C. geskryf, voor die vernietiging van Jerusalem en die begin van die Diaspora in 70 n.C. Paulus was die belangrikste apostel na die heidene en hy het as ‘n martelaar in Rome gesterf net voor die einde van die eerste geslag. Slegs die bejaarde apostel Johannes, wat ook ‘n tydgenoot van Jesus was, het ná 70 n.C. nog geskrifte gelewer wat by die Nuwe Testament ingesluit is.

Die laaste geslag: eindtydse herstel

Die laaste geslag voor Christus se wederkoms kan bestudeer word binne sy totale verloop van 70 jaar of effens langer, of binne die verband van die ongeveer 40 jaar van ‘n volwasse geslag. Die geboorte van die moderne staat Israel in Mei 1948 was die vertrekpunt vir die laaste geslag. Dertig jaar later het hierdie laaste geslag voor die koms van die Messias en die instelling van sy vrederyk op aarde, sy volwasse stadium bereik. Hierdie feit is gedemonstreer deur die politieke volwassenheid, of onafhanklikheid, van Jerusalem in 1980, effens meer as 30 jaar ná die geboorte of vestiging van moderne Israel. Ná meer as twee millennia van oorheersing deur die nasies is Jerusalem tot die ewige onverdeelbare hoofstad van ‘n onafhanklike Israel verklaar. Eerste Minister Menachem Begin het sy kantoor vanaf Tel Aviv, die vorige administratiewe hoofstad van Israel, na Jerusalem verskuif.

Die Stad van die Groot Koning (Ps. 48:2-3), die toekomstige hoofstad van die Messiasryk (Jer. 3:17; Jes. 2:3) is in 1980 herstel as die hoofstad van die soewereine staat van Israel, nadat dit sedert die Babiloniese ballingskap van Israel in die sesde eeu v.C. deur die heidene vertrap is. Ná die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine in 70 n.C., het die vertrapping van die stad ‘n nuwe en meer absolute fase betree wat tot in die middel van die 20ste eeu sou voortduur (Luk. 21:24). Die herowering van Jerusalem in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 was net ‘n voorspel tot die epogmakende gebeurtenis van die stad se politieke herstel in 1980.

‘n Studie van Lukas 21 bring aan die lig dat die volle geslag sowel as die korter volwasse geslag in hierdie hoofstuk ter sprake is, en dus aan ons ‘n tydsraamwerk vir die vertolking van eindtydse profesieë bied. Die eindtydse geboorte van Israel is deur Jesus voorspel toe Hy die volgende beeld gebruik het: “Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is” (Luk. 21:29-30). Die vyeboom is sedert Ou Testamentiese tye ‘n simbool van die volk Israel (Hos. 9:10; Jer. 24:5). Die bot van die vyeboom verwys na die vroeë begin van Israel se herstelproses as ‘n onafhanklike, soewereine volk in Mei 1948, en daarom ook na die begin van die laaste geslag.

Ná ‘n bietjie meer as 30 jaar van onafhanklikheid, het die laaste geslag sy volwasse fase bereik en daardeur die weg gebaan vir die politieke herstel van Jerusalem as Israel se hoofstad en belangrike sentrum vir hulle godsdienstige en kulturele lewe. Toe Israel in 1948 onafhanklikheid verkry het, het hulle net die nuwe, westelike deel van Jerusalem beheer. In daardie stadium was Bybelse Jerusalem (die Ou Stad, of die Stad van Dawid, waarvan die Tempelberg deel vorm), steeds onder Jordaniese beheer. In Junie 1967 is die hele stad herower en in 1980 amptelik na sy vroeëre status as Israel se hoofstad herstel. Die profesie dat “Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24), is fisies in 1967 vervul en dit het die weg gebaan na die stad se politieke herstel in 1980.

Die huidige vlak van die stad se herstel is egter nog net ‘n voorlopige vervulling van Bybelse beloftes. Die finale politieke en godsdienstige herstel van Jerusalem sal eers gebeur wanneer die Messias aan die einde van hierdie geslag terugkom om die vervalle hut van Dawid te herstel (Hand. 15:16-17) en ook al die inwoners van Jerusalem geestelik lewendig te maak (Sag. 12:10; 13:1). Die Jode wat die komende verdrukking oorleef, sal die Messias almal begroet met die woorde: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Van daardie tyd af vorentoe sal Israel en die nasies die Here Jesus as die enigste ware Messias aanbid.

Nadat Christus die dramatiese tekens geprofeteer het wat op die lang tyd van nie-Joodse beheer oor Jerusalem sou volg, het Hy die gebeure van die laaste dae in die volgende tydsraamwerk geplaas: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie” (Luk. 21:32). Die “alles” wat moet gebeur, sluit die wegraping van die kerk in (v. 36), die tyd van benoudheid vir die nasies gedurende die verdrukking (v. 25-26), asook die wederkoms van Christus (v. 27). Daar word aan ons geen aanduiding van die spesifieke dag of uur gegee waarop Jesus Christus sal kom nie – ons word net ingelig oor die sekerheid van ‘n laaste geslag voor sy koms en die instelling van sy vrederyk. Hoe naby aan die einde van hierdie geslag Christus sal kom, en presies hoe lank die tydsduur van hierdie geslag sal wees, weet ons nie. Al wat ons weet, is dat hierdie geslag sekerlik nie verby sal gaan voordat alles wat Christus in sy profetiese rede voorspel het, vervul sal wees nie. Hierop kan ons reken!

Ons moenie verbaas wees indien die laaste geslag verleng word tot op ‘n punt verby sy gemiddelde tydsduur nie, sodat meer mense die geleentheid kan kry om gered te word (2 Pet. 3:9). Geslagte strek nie oor rigied vasgestelde tydperke nie, maar het ‘n sekere mate van rekbaarheid voordat hulle hul uiterste grens bereik.

Dit is duidelik dat net soos wat die eerste geslag van die Christelike dispensasie met die tydelike uitfasering van Israel uit God se raadsplan saamgeval het, die kerk homself ná die vervulling van sy opdrag om die wêreld te evangeliseer, moet voorberei om in die laaste geslag deur middel van die wegraping uitgefaseer te word. Paulus sê nadat die volheid van die heidene ingekom het, sal die hele Israel gered word (Rom. 11:25-26). Israel word gedurende hierdie laaste geslag progressief herstel in voorbereiding op hulle toekomstige rol as God se spesiale getuies op aarde (Rom. 11:12; Jes. 27:6).

Die feit dat die Here Jesus so duidelik met ons gepraat het oor die laaste geslag voor sy wederkoms, stel ons onder die verpligting om ten minste die tydskaal en profesieë van hierdie beslissende geslag in aanmerking te neem. Kort voor die einde van dié geslag, op ‘n uur wanneer ons dit nie verwag nie (Matt. 24:44), sal Hy as die hemelse Bruidegom kom om sy wagtende bruid weg te raap en na haar hemelse tuiste in die Vader se huis weg te voer (Joh. 14:2-3).