Print

Die Profetiese Rede van Christus

Written by Prof Johan Malan.

Die Here Jesus bied in sy profetiese rede ‘n baie duidelike scenario aan waarin Hy sowel die begin as die einde van die wêreldveranderende bedeling tussen sy eerste en tweede koms bespreek. Hierdie tydperke van oordeel én genade word aan twee geslagte gekoppel wat met belangrike gebeure in en om Jerusalem geassosieer word. Die eerste geslag is ingelui deur Jerusalem se verwerping en kruisiging van hulle Messias, en afgesluit deur die oordeel en verwoesting van Jerusalem weens die ongeloof van sy inwoners. Die laaste geslag is ingelui deur die herstel van Jerusalem en sal afgesluit word deur die wederkoms van die Messias na Jerusalem ná die oordele van die dag van die Here. In die periode tussen hierdie twee geslagte word Jerusalem deur die nie-Joodse nasies vertrap.

Verskillende perspektiewe in die Evangelies

Voordat hierdie onderwerp verder bespreek word, moet die redes eers bepaal word vir die  verskillende aanbiedings van die profetiese rede deur Matthéüs en Lukas – Markus se weergawe daarvan is feitlik dieselfde as dié van Matthéüs. Die inagneming van hierdie verskille sal ons daarvan weerhou om die profetiese toekoms van die kerk in die tipies Joodse scenario van Matthéüs te probeer vasstel.

‘n Studie van die drie sinoptiese Evangelies (Matthéüs, Markus en Lukas) toon duidelik aan dat hulle aanvullende teologiese perspektiewe belig. Hoewel die basiese boodskap van redding deur almal van hulle aangebied word, is die Evangelie van Matthéüs hoofsaaklik vir die Jode geskryf. Dit het ‘n duidelike Joodse ingesteldheid waarin voorkeur uitdruklik gegee word aan die verkondiging van die koninkryk van God aan Israel.

Daar is baie verwysings na die Ou Testament in Matthéüs, om daardeur aan ‘n skeptiese volk te bewys dat die lewe en werke van Jesus tot in die fynste besonderhede die vervulling is van Ou Testamentiese profesieë oor die koms van die Messias. ‘n Joodse genealogie word vir Jesus aangebied, wat bereken word vanaf Abraham, die stamvader van Israel: “Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham...” (Matt. 1:1). Sy afkoms uit die koningshuis van Dawid word dikwels genoem, daarom word Hy spesifiek as die Koning van die Jode beskryf (Matt. 2:2; 12:23).

In die tydperk voor die nasionale verwerping van Jesus deur die Jode, het die dissipels opdrag gekry om alle aandag op Israel toe te spits en nie-Joodse nasies soos die Samaritane te vermy: “Moenie gaan op pad na die heidene [die nie-Joodse volke] nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel” (Matt. 10:5-6). Jesus het self ook gesê: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel” (Matt. 15:24). Die belofte van die Messias is aanvanklik net aan Israel gemaak, en aan geen ander volk nie.

Dit is eers nadat Israel as volk die Messias en sy boodskap van redding verwerp het, dat die opdrag spesifiek eers ná die kruisiging en opstanding van Christus gekom het om die evangelie aan alle volke te verkondig (Matt. 28:19). Die Here Jesus het Israel vooraf al gewaarsku dat hulle ongeloof na só ‘n situasie sou lei: “Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis” (Matt. 8:11-12). Met die oog hierop is dit duidelik waarom Israel weens hulle nasionale ongeloof deur die verdrukking moet gaan.

In Matthéüs word die Joodse perspektief in die aanbieding van profesieë, insluitend die profetiese rede, deurgaans gehandhaaf. Die vernietiging van Jerusalem word duidelik voorspel, asook die feit dat die Joodse volk wat vir Jesus verwerp het, uit hulle land verstrooi  sou word en Hom nie weer sou sien totdat Hy sal terugkom en hulle Hom dan sal aanvaar en in die Naam van die Here begroet nie (Matt. 23:37-39). Die beproewings van die verdrukking, asook die ontheiliging van die tempel, word in Matthéüs 24 beskryf omdat Israel, as ‘n volk, deur die verdrukking sal gaan. In hierdie Evangelie word daar duidelike opdragte aan die Jode van Judéa gegee oor hulle skielike vlug na die berge, te voet, in die middel van die komende verdrukking, pas voor die aanbreek van die “groot verdrukking”. In hierdie beskrywing word tipies Joodse terme soos “die sabbat” gebruik (Matt. 24:15-22). Bybelse sabbatswette is weer in moderne Jerusalem ingestel, en dit verhoed ortodokse Jode om op dié dag ver te loop en reise te onderneem.

‘n Opvallend verskillende perspektief word in die Evangelie van Lukas aangebied. Hierdie Evangelie is vir nie-Joodse gelowiges geskryf en het ‘n universele oriëntasie deurdat die posisie van Christene, sowel as die ongeredde nasies, uitdruklik genoem word. Die geslagsregister van Jesus word ook terug bereken tot by Adam (Luk. 3:38), nie net tot by Abraham nie, omdat Jesus vir al die nageslagte van Adam gekom het om oral in die wêreld “te soek en te red wat verlore was” (Luk. 19:10). Die Joodse dissipels word vermaan oor hulle  onverdraagsaamheid teenoor die Samaritane (Luk. 9:51-56), terwyl Jesus ook die Jode verkwalik het omdat net een van die tien melaatses wat Hy genees het, ‘n Samaritaan, omgedraai het om God te verheerlik (Luk. 17:11-19).

In sy profetiese oorsig bespreek Lukas nie net die lotgevalle van die ongelowige Jode nie, maar sluit ook profesieë in oor die Messiaanse gelowiges, die nie-Joodse Christene, én die nasies. Die ontsnapping uit die vernietiging van Jerusalem wat aan volgelinge van Jesus belowe is, word deur Lukas genoem (Luk. 21:20-22) maar nie deur Matthéüs nie. Net so ook word die belofte van die wegraping wat Jesus deur die Lukas-Evangelie aan Joodse sowel as nie-Joodse gelowiges gemaak het (Luk. 21:34-36), nie deur Matthéüs genoem nie.

Wat die verdrukking betref, verwys Lukas nie na die ontheiliging van die tempel deur die valse messias, soos wat Matthéüs doen nie, maar beklemtoon die benoudheid van die nasies te midde van wêreldwye rampe en haas onleefbare toestande. Dit is ook opvallend dat hy duidelik na die tye van die nasies verwys wat in die lang periode tussen die eerste en laaste geslag sou verloop (Luk. 21:24). Matthéüs maak geen melding van die tydperk van nie-Joodse oorheersing nie, en beskryf eerste en laaste geslag gebeure asof hulle oënskynlik aaneenlopend is. Dit is tipies van profesieë wat slegs uit Israel se oogpunt geskryf is. Daniël het ook die 70 jaarweke van Israel as ‘n oënskynlik aaneenlopende tydperk beskryf, sonder om na die lang onderbreking tussen die 69ste en 70ste week te verwys, waartydens die tye van die nasies verloop (Dan. 9:24-27).

Die betekenis van ‘n “geslag”

Die begrip “geslag” (Gr. genea) moet reg gedefinieer word ten einde ‘n beter begrip van die profetiese rede te verkry. Hierdie woord word soms gebruik om net na ‘n sekere groep mense te verwys (bv. Matt. 12:39), maar meer dikwels verwys dit na ‘n spesifieke generasie, of ouderdomsgroep, in die geskiedenis van ‘n volk of gemeenskap. Die ouer geslagte word deur jongeres opgevolg, en in hierdie sin het almal van hulle ‘n beginpunt en ‘n eindpunt. ‘n Totale geslag verteenwoordig ‘n tydperk van omtrent 70 jaar, maar kan selfs tot by 80 verleng word (Ps. 90:10), terwyl ‘n volwasse geslag (die tydperk nadat ‘n Joodse man op die ouderdom van 30 mondig geword het) gemiddeld 40 jaar lank duur (vgl. Num. 32:13).

Die eerste volwasse geslag van die huidige bedeling het met die verwerping en kruisiging van Jesus in 32 n.C. begin, en met die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. geëindig. Die laaste volle geslag het met die herstel van Israel in 1948 begin, maar die laaste volwasse geslag het in 1980 met die herstel van Jerusalem as Israel se hoofstad begin, en sal met die verskyning van Christus op die Olyfberg eindig.

Die profetiese rede

In die profetiese rede het die Here Jesus aan sy dissipels korttermyn tekens gegee wat op die vernietiging van Jerusalem en die tempel dui, sowel as langtermyn tekens wat op sy wederkoms betrekking het:

“En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie. En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Matt. 24:1-3). Die woord “wêreld” in hierdie vers (aioon in Grieks) kan ook met “bedeling” of “lang tydperk” vertaal word (Die New King James Version vertaal dit meer korrek as “age”). Dieselfde woord word in 1 Korinthiërs 10:11 gebruik, waar Paulus sê dat alles wat met Israel gebeur het, opgeskryf is as waarskuwings aan ons op wie die eindes van die “eeue” gekom het.

In Matthéüs 24:3 word twee verskillende vrae aan die Here gestel: (1) “Wanneer sal die tempel vernietig word?” en (2) “Wat is die teken van u koms en van die einde van hierdie bedeling?” In die daaropvolgende rede word verskeie tekens bespreek wat van eietydse belang was vir die Jode van die eerste geslag ná die verwerping en kruisiging van die Messias, asook tekens wat betrekking het op die laaste geslag voor die wederkoms van Jesus. In hierdie profesieë moet ‘n duidelike onderskeid getref word tussen eerste geslag gebeure wat op die eerste van die twee vrae van die dissipels aan Jesus betrekking het, en laaste geslag gebeure wat op die tweede vraag betrekking het.

Met verwysing na die onmiddellike toekoms van Jerusalem en sy inwoners in die eerste eeu, het die Here Jesus die skeptiese Joodse leiers aangespreek wat Hom verwerp het, net soos hulle vaders die profete verwerp en doodgemaak het. Hulle het die maat van hulle vaders se sonde volgemaak en sou noodwendig die gevolge van hulle goddeloosheid moes dra:

“Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:36-39). Lukas brei verder hierop uit:

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is… want daar sal groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20, 23-24).

Wanneer Jesus na die laaste geslag verwys, word dit in die konteks geplaas van die herstel van Jerusalem, asook die groot verdrukking met sy oorloë, natuurrampe en benoudheid onder die nasies, wat kort voor sy wederkoms sal plaasvind. Dit is die geslag wat sou aanbreek nadat die lang tyd van Jerusalem se vertrapping beëindig is. Gebeure in dié geslag het nie net op die Midde-Ooste betrekking nie, maar het ‘n wêreldwye toepassing op Israel en die nasies:

“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is… Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie” (Luk. 21:25-32; kyk ook Matt. 24:34).

Die grense van die eerste en laaste geslag van die huidige bedeling (die kerkdispensasie) word duidelik in die bogenoemde Skrifaanhalings gedefinieer. Die eerste geslag het begin toe die inwoners van Jerusalem hulle Messias-Koning verwerp en aan die Romeinse owerhede oorgelewer het om gekruisig te word. Die einde van die eerste geslag het aangebreek toe Jerusalem vernietig is en die internasionale verstrooiing van Israel begin het.

Die laaste volwasse geslag is ingelui deur die herstel van Jerusalem na sy voormalige posisie as Israel se hoofstad. Tydens die geboorte van moderne Israel as ‘n volk in 1948, was Bybelse Jerusalem (die Berg Sion en die Tempelberg) nog nie onder hulle beheer nie. Hulle het die Ou Stad eers in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 herower, die stad se politieke status in Augustus 1980 herstel en daardeur die laaste volwasse geslag ingelui. Hierdie geslag sal eindig wanneer die inwoners van Jerusalem hulle Messias-Koning ontvang en aanvaar as Hy skielik aan die einde van die groot verdrukking op die Olyfberg verskyn. Hulle sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39; vgl. Sag. 12:10; 14:4).

Die laaste geslag sal eindig in ‘n situasie wat ooreenstem met dié waarmee die eerste geslag begin het: Die inwoners van Jerusalem [die leiers van die volk] sal weer die geleentheid hê om Jesus as hulle Messias-Koning te aanvaar, en voor Hom neer te buig vir redding en die reiniging van hulle sonde (Sag. 13:1). Tydens die eerste geleentheid lank gelede het hulle Hom verwerp, maar by die tweede geleentheid sal hulle Hom ten volle aanvaar en bitter berou hê oor hulle sondes van die verlede.

Uitstaande gebeure van die eerste geslag

‘n Tema wat duidelik in die profetiese rede bespreek word, is die belofte dat die ware gelowiges van die eerste geslag die goddelike oordele oor Jerusalem sou ontsnap. Dieselfde Bybelse beginsel word ook op die laaste geslag toegepas, omdat gelowiges weer uit die rampgebied van goddelike oordele verwyder sal word. Dit is ‘n gevestigde beginsel van God se handelswyse met mense: Hy stort nooit sy toorn oor die regverdiges uit wanneer Hy die goddeloses oordeel nie. Noag, Lot en hul gesinne is ook in plekke van veiligheid gestel voordat God die bose mense van hulle tyd geoordeel het.

Die volgende belofte is aan gelowiges van die eerste geslag gegee: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word” (Luk. 21:20-22).

In November en Desember, 66 n.C., is hierdie belofte letterlik aan Messiaanse gelowiges in Israel vervul. Dit was tydens die beleëring van Jerusalem deur Cestius Gallus, die Romeinse goewerneur van Sirië. In November het Cestius egter besluit dat sy magte nie goed genoeg toegerus was vir ‘n lang beleëring van Jerusalem nie, en het die beleg afgelas. Die Jode het moed geskep by die gedagte dat God die vyand in hulle hand gegee het. Hulle het die terugtrekkende aanvallers agtervolg en 5300 van die Romeinse soldate gedood terwyl hulle self feitlik geen verliese gely het nie.

Messiaanse gelowiges in daardie tyd het egter nie die valse hoop van hulle ortodokse landgenote gedeel nie, maar op die waarskuwing van die Here Jesus gereageer en in ‘n noordoostelike rigting uit die stad gevlug. Hulle het die Jordaanrivier oorgesteek en na die stad Pella in Dekápolis gevlug. Hier was hulle veilig teen die komende oordele oor Jerusalem en sy inwoners.

Nero, een van die grootste tiranne van alle tye, was in hierdie tyd keiser in Rome. Hy was hewig ontsteld oor die vernederende neerlaag wat sy Siriese leërs teen die Jode in Judéa gely het. Hy het die baie ervare generaal Vespasianus uit Gallië gestuur om die Joodse opstande te gaan onderdruk. Vespasianus het sy militêre basis van Antiochië na Ptolemais verskuif. Hier het sy seun Titus met soldate uit Alexandrië by hom aangesluit om ‘n totale mag van sowat 60 000 man op die been te bring. Verskeie dorpe en stede in Judéa is beleër, ingeneem, verwoes en feitlik al die inwoners om die lewe gebring. Baie van die oorlewendes het na Jerusalem gevlug omdat hulle gemeen het dat dié stad so versterk en veilig was dat dit feitlik oninneembaar was. Hulle het gemeen dat hulle hier veilig sou wees, maar die Here Jesus het hulle teen ‘n baie tragiese uiteinde gewaarsku:

“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:41-44).

Gedurende die beleëring van Jerusalem is 1,1 miljoen mense dood – die helfte van hulle deur hongersnood en die res het geval deur die skerpte van die swaard. Die tempel is aan die brand gesteek, en daarna is die mure tot op die rotsfondament afgebreek om die gesmelte goud te herwin wat deur die krake van die vloer afgeloop het. Al die geboue in die stad is aan die brand gesteek en afgebreek. Op 26 September, 70 n.C., het die eens beroemde Stad van Dawid gesterf. Slegs een muur, die huidige Westelike Muur op die Tempelberg, het oorgebly as ‘n skuiling vir Romeinse soldate wat agtergebly het om toe te sien dat die Jode nie weer die stad herbou nie. Die 97000 oorlewende Jode is as krygsgevangenes weggevoer. Baie van hulle is in ander provinsies van die Romeinse Ryk as slawe verkoop.

Die lang tydperk van Israel se verstrooiing uit die land, hulle wêreldwye ballingskap, asook die vertrapping van Jerusalem, het in 70 n.C. begin. Die daaropvolgende tydperk word beskryf as “die tye van die nasies” (Luk. 21:24) waartydens die hele wêreld geëvangeliseer moet word. Dit was eers in die laat 20ste eeu dat Jerusalem weer onder Joodse beheer gekom het, en daardeur die laaste geslag voor die koms van die Messias ingelui het.

Prominente gebeure van die laaste geslag

Die einde van die fisiese en politieke vertrapping van Jerusalem het aangebreek in die tydperk nadat moderne Israel in 1948 herstel is. Die Ou Stad is in 1967 deur Israel herower en in Augustus 1980 tot hulle hoofstad verklaar. Dit was die vertrekpunt vir die laaste volwasse geslag. Daar is opvallende ooreenkomste tussen toestande wat gedurende die eerste en laaste geslag in Israel en Jerusalem bestaan het (en tans bestaan), ten spyte daarvan dat daar byna twee millennia tussen hierdie twee geslagte verloop het:

  • Die groot meerderheid Jode verwerp steeds vir Jesus as Messias, soos wat hulle volksgenote in die eerste eeu ook gedoen het.
  • Die Messiaanse Jode is ‘n klein minderheidsgroep wat deur die ortodokse Jode weerstaan, verag en dikwels op verskillende maniere vervolg word indien hulle die evangelie in die naam van Jesus verkondig.
  • Die volk verwag ‘n Messias wat hulle van hulle vyande sal verlos, ‘n vreedsame toekoms vir Israel sal waarborg, en hulle ook sal toelaat om weer die tempeldiens te herstel. Jesus het hulle gewaarsku teen die aanvaarding van ‘n valse messias (Joh. 5:43). Hy sal voorgee om ‘n godsdienstige en politieke leier te wees, en uit ‘n woestyngebied in die Midde-Ooste na vore tree (Matt. 24:26).
  • Die verwerping van Jesus in die eerste eeu het na die vernietiging van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van die Jode gelei. Die voortgesette verwerping van Jesus deur lede van die laaste geslag sal gedurende die verdrukking lei na die tyd van benoudheid vir Jakob (Jer. 30:7), wanneer die valse messias hulle erg sal vervolg (Dan. 7:25; Op. 12:13). Jerusalem sal weer beleër word.
  • Aan eerste geslag gelowiges is ‘n ontsnappingsroete belowe uit God se oordele wat oor die goddelose meerderheid uitgestort sou word (Luk. 21:20-21), terwyl daar aan laaste geslag gelowiges ook ‘n ontsnapping uit die oordele van God tydens die verdrukking belowe word (Luk. 21:36).
  • Jode van die eerste geslag is deur die duiwel mislei om teen God te rebelleer deur sy Seun as Verlosser en Koning te verwerp. Dit het daartoe gelei dat hulle God se guns verbeur het en uit hulle stad en land verdryf is. Dieselfde vorm van geestelike blindheid lei ook daartoe dat laaste geslag Jode teen God rebelleer deur voort te gaan om die Here Jesus en sy dissipels te verwerp. Hulle sal baie naby daaraan kom om uit hulle stad en land verdryf te word (Sag. 14:2), maar dan sal Christus terugkom om die oorblyfsel te red (Sag. 14:3-5) en ‘n nuwe verbond met hulle te sluit (Jer. 31:7,31).
  • Die tydperke van beide hierdie geslagte word as oorgangsperiodes beskryf, waarin Israel en die kerk saam bestaan. Die eerste geslag was ‘n oorgang vanaf Israel na die kerk. Kort voor 70 n.C. is Paulus se baanbrekersending om die kerk onder die heidense nasies te vestig afgehandel, en het hy as ‘n martelaar in Rome gesterf. Teen 70 n.C. is Jerusalem vernietig en Israel as ballinge weggevoer. Dit is gevolg deur die lang periode van die tye van die nasies (Luk. 21:24). In die laaste geslag keer Israel terug na hulle land, asook hulle antieke hoofstad, Jerusalem. Hulle geestelike herstel as volk sal egter eers aan die einde van hierdie geslag plaasvind. Gedurende die laaste geslag handel die kerk sy opdrag af om die evangelie aan alle volke te verkondig. Spoedig sal die ware kerk weggeneem word deur middel van die wegraping, sodat die tye van Israel weer ‘n aanvang kan neem. Aan die begin van Israel se 70ste jaarweek (die verdrukking van sewe jaar), sal hulle ‘n verbond met die valse messias sluit (Dan. 9:27; Joh. 5:43). Hierdie tydperk is deel van die laaste geslag, maar kan eers begin nadat die kerkbedeling deur middel van die wegraping afgesluit is (2 Thess. 2:6-8). Reg aan die einde van die verdrukking, wat terselfdertyd die einde sal wees van die laaste geslag voor die nuwe bedeling van die Messias se koninkryk, sal Christus terugkeer en dan sal die oorblyfsel in Israel met Hom versoen word (Matt. 37:39).

Die uitfasering van die kerk is ‘n baie belangrike gebeurtenis van die laaste geslag. Die oordele en toetse waaraan Israel en die Christusverwerpende volke onderhewig sal wees voordat ‘n oorblyfsel van hulle gered sal word, is nie vir die ware kerk bedoel nie: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Dit is belangrik om daarop te let dat nominale gelowiges nie waardig sal wees om die komende verdrukking te ontvlug nie. Ware Christene is waaksame en biddende getuies vir die Here Jesus. Die ander het net ‘n gedaante van godsaligheid, maar geen getuienis dat hulle deur die Heilige Gees gewederbaar is nie. Jesus sê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af” (Matt. 15:8).

Ná die wegraping sal die Antichris homself openbaar en deur Israel en al die nasies aanvaar word (Joh. 5:43; Op. 13:3). In die middel van die verdrukking sal hy die herboude tempel in Jerusalem betree, die offerdiens beëindig, homself in die Allerheiligste tot God verklaar en die verpligte aanbidding van ‘n beeld van homself instel (Dan. 9:27; 2 Thess. 2:4; Op. 13:15). Wanneer die Joodse leiers sal weier om hom in sy nuwe hoedanigheid as selfverklaarde God te aanvaar en te aanbid, sal hy ‘n volksmoord van die Jode gelas. Die Here Jesus het hulle teen hierdie baie ernstige wending van sake gewaarsku, en hulle aangeraai om in groot haas uit Jerusalem na die berge te vlug die oomblik wanneer dit gebeur:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet dié wat in Judéa is na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-21).

Hierdie ontsnapping sal 3½ jaar ná die wegraping plaasvind. Dit sal gerig wees op die bewaring van ‘n oorblyfsel Jode gedurende die donker dae van die groot verdrukking, sodat hulle dit sal oorleef om die koms van die ware Messias ná ‘n verdere 3½ jaar te kan aanskou en dan gered te word.

Aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking sal die Here Jesus uit die hemel terugkeer. Die oorlewende Jode sal by die Olyfberg bymekaarkom, waar Hy sy voete sal neersit: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sag. 14:4). Hulle sal Hom met groot blydskap begroet en uitroep: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 37:39). Die geestelike herstel van die oorblyfsel in Israel sal die gebeure van die laaste geslag van die huidige bedeling afsluit (Sag. 12:10-12; 13:1). Ná die Messias se koms sal daar ‘n dramatiese Christelike transformasie in Israel én die hele wêreld plaasvind (Matt. 24:30; Jer. 3:17).

In die lig van die duidelike beloftes in die profetiese rede van Jesus, behoort dit vir elkeen duidelik te wees dat die laaste geslag reeds in ‘n gevorderde stadium is. Die wegraping van die kerk is baie naby, en sal gevolg word deur die openbaring van die valse messias en die begin van die verdrukking. Die Here Jesus het gewaarsku teen die ernstige misleiding wat met die koms van die valse messias en sy medewerkers gepaard sal gaan (Matt. 24:4-5,23-26).

Die interim periode tussen die Messias se twee komste

In die profetiese rede word dit duidelik gestel dat die posisie van hulle land en stad, Jerusalem, nooit bedoel was om gedurende Israel se verstrooiing een van permanente verwerping te wees nie. Die woord “totdat” word telkens gebruik om die feit te beklemtoon dat hulle een of ander tyd in die toekoms herstel sou word. Die tye van die nasies sal ook nie onbepaald voortduur nie. Christus sal eers in die geheim vir sy kerk kom, en daarna in die openbaar vir Israel en die hele wêreld:

Die vertrapping van Jerusalem: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). In hierdie vers dra die woord “totdat” (Gr. achri) die idee oor van ‘n einde wat sal aanbreek. Die situasie wat beskryf word, sal dus nie onbepaald voortduur nie, maar op ‘n besliste einde afstuur. Uit eietydse geskiedenis weet ons dat die fisiese en politieke vertrapping van Jerusalem beëindig is toe Jerusalem in 1967 herower is en in 1980 verklaar is tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel. Die huidige herstel van Jerusalem is egter net gedeeltelik. Voordat die Messias kom, is die stad bestem om ‘n smeltoond en plek van groot benoudheid vir Israel te wees, sodat hulle suiwering en reiniging daardeur in die hand gewerk kan word (Eseg. 22:18-22). Die ontheiliging en voortgesette vertrapping van die Tempelberg deur heidense nasies duur dwarsdeur die laaste geslag voort as ‘n uiterlike teken van Israel se geestelike blindheid. Selfs die derde tempel wat gedurende die verdrukking gebou sal word, sal nie hierdie toestand verander nie. Die valse messias sal dié tempel gebruik om Israel se aandag weg te trek van die eenmalige offer van die Lam van God, en hy sal ook die herboude tempel ontheilig deur dit in ‘n plek vir verpligte afgodediens te omskep. Israel sal eers geestelik herstel word wanneer die Messias aan die einde van hierdie jaarweek kom. Die hele stad sal ná al die rampe van die groot verdrukking herbou word (Jer. 31:38-40; Jes. 2:2-3; 52:1-2; 60:1-18). ‘n Belangrike deel van die herbouing van Jerusalem sal die herstel van die vervalle troon van Dawid wees, asook die oprigting van die vierde tempel (Hand. 15:16-17; Luk. 1:32; Eseg. 40–48). Ons moet almal ernstig bid vir die vervulling van die komende heerlikheid van Jerusalem (Jes. 62:6-7).

Die fisiese afwesigheid van die Messias: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Die woord “totdat” kom ook hier voor. Die oorblyfsel van Israel sal vir Jesus sien wanneer Hy weer kom aan die einde van die laaste geslag – wat ook die einde van die verdrukking sal wees – en dan sal hulle Hom in die Naam van die Here seën. Die Here Jesus het sy sigbare wederkoms duidelik aan die einde van die verdrukking gekoppel: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Koms van die Messias ná die tyd van oordeel: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Matt. 24:34; kyk ook Luk. 21:32). Die laaste geslag van die huidige bedeling sal sekerlik sy punt van voltooiing bereik, maar nie voordat die vernietigende en wêreldwye oordele van die dag van die Here op die aarde uitgestort is nie. Die Here Jesus het gesê: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:21-22). Slegs die ware kerk van Christus sal die tyd van oordele ontvlug (Luk. 21:36), maar ongelowige Israel en die goddelose nasies sal daardeur moet gaan. Op die laaste dag van hierdie apokaliptiese jaarweek sal Christus terugkom, ’n einde aan die verdrukking maak, die oorblyfsel van Israel en die nasies red, en ’n nuwe dispensasie van vrede op aarde instel.

Ondersteunende profesieë

Daar is ook ander profesieë oor die toekoms van Israel en die nasies in die Bybel, waarin die woord “totdat” op dieselfde manier as in die profetiese rede gebruik word. Die wonderlike, goddelike ingryping waarop ons hoop, word hierdeur verder bevestig. Paulus sê: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene [letterlik die etniese groepe, of nie-Joodse volke] ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem” (Rom. 11:25-27).

Die nasionale bekering van die oorblyfsel in Israel sal reg aan die einde van die laaste geslag plaasvind, wat ook die einde van die groot verdrukking sal wees. Teen daardie tyd sal die geestelike na-oes onder die nasies ook reeds gedurende die voorafgaande verdrukking ingesamel wees, en dan sal “die hele Israel gered word” (Jer. 31:7,31,34; Rom. 11:26).

Die Here bestraf die volk Israel deur die profeet Hoséa oor hulle geestelike opstandigheid teen Hom, en wys hulle ook op die gevolge van die verwerping van die Messias:

“Want Ek [die Messias] is soos ‘n leeu vir Efraim, en soos ‘n jong leeu vir die huis van Juda; Ek, Ek verskeur en gaan heen [die hemelvaart van Jesus nadat Hy die vernietiging van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van die Jode aangekondig het]… Dan gaan Ek heen, Ek keer na My woonplek [die hemel] terug, totdat hulle [die volk Israel] skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood [in die groot verdrukking] sal hulle My soek. Kom en laat ons terugkeer tot die Here; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae [van ‘n duisend jaar elk – vgl. 2 Pet. 3:8] lewend maak, op die derde dag [in die derde millennium ná sy eerste koms] ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe” (Hos. 5:14 – 6:2).

Die tyd sal sekerlik kom wanneer Israel as ‘n volk groot benoudheid sal ervaar omdat hulle hul Messias tydens sy eerste koms verwerp het. Die volle besef van hulle nasionale verwerping van die Messias sal egter eers ná “twee dae” posvat. Hierdie profetiese dae van ‘n duisend jaar elk (2 Pet. 3:8) is dieselfde as dié wat die Here Jesus gebruik het toe Hy na sy eie bediening verwys het: “Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar” (Luk. 13:32). Ná die “twee dae” (2000 jaar) van Jesus se bediening om mense van die heerskappy van Satan te verlos en hulle geestelike wonde te genees, sal Hy as Koning heers in die derde millennium (wat ook as die “dag van die Here” beskryf word – Sag. 14:8-9). Hierdie drie “dae” het tweeduisend jaar gelede ‘n aanvang geneem met die koms van Jesus na die aarde, wat die begin van die Messias se aardse bediening was, en sal voortgaan tot aan die einde van Christus se duisendjarige vrederyk wanneer Hy as Koning op aarde sal regeer.

Uit hierdie profetiese konteks is dit duidelik dat daar twee millennia ná die eerste koms van die Messias ‘n tyd van groot aanvegtinge en benoudheid sal aanbreek vir Jakob, dit is Israel (Jer. 30:7). Soos deur die Here Jesus in sy profetiese rede aangetoon, sal Israel as volk eers die valse messias aanbid. Nadat hy ‘n beeld van homself in die tempel opgerig en homself daar tot God verklaar het (Dan. 9:27; 11:31,36; 12:11; Matt. 24:15; 2 Thess. 2:3-4), sal Israel besef dat hy ‘n valse messias is en hulle verbond met hom verbreek. Hierdie daad van hulle sal die Antichris woedend maak en daartoe lei dat hy die Joodse volk sal probeer uitwis. Dit sal ‘n tyd van groot benoudheid wees, wanneer Israel hulle nasionale sonde van die verwerping van Jesus as Messias sal besef. Hulle ontmoeting met Hom by die Olyfberg sal tot die bekering van die hele volk lei (Sag. 12:10–13:1; Jer. 31:34).

Nadat die valse messias in die middel van die verdrukking ‘n beeld van homself in die tempel geplaas het, sal Israel die Messiaanse profesieë ernstig bestudeer en agterkom dat daar groot benoudheid op hulle wag, maar dat dit nie lank sal wees voordat die Messias kom nie: “Dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word... En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop” (Dan. 12:1,11).

Die laaste 42 maande van die verdrukking, waarna Jesus as die “groot verdrukking” verwys (Matt. 24:21; vgl. Op. 11:2; 13:5), sal verloop tussen die selfvergoddeliking van die valse messias in die tempel en die koms van die ware Messias op die Olyfberg. Dit sal gevolg word deur ‘n maand van roubeklag deur die Jode terwyl hulle met Jesus as Messias versoen word (Sag. 12:10-14; vgl. hulle rou oor Moses in Deut. 34:8). Dan sal daar 43 profetiese maande van 30 dae elk (1290 dae) verby wees sedert die dag waarop die valse messias die tempel ontheilig en mense gedwing het om hom as God te aanbid.

In sy profetiese rede verwys die Here Jesus na die eerste én laaste geslag van die kerkbedeling, sowel as die tussentydse “tye van die nasies”. Ons is beslis baie naby aan die wegraping en die begin van die sewe jaar lange verdrukking wat deel van die laaste geslag is.