Print

Tye en Geleenthede

Written by Prof Johan Malan.

Daar is verskeie aanduidings van tye en geleenthede in die Bybel, sommige daarvan duidelik en ander minder duidelik. Ons moet hierdie tye, sowel as hulle fisiese, morele en geestelike kenmerke (die tekens van die tye) op ‘n Bybels korrekte manier vertolk indien ons geldige aannames en gevolgtrekkings wil maak oor die tyd waarin ons leef, asook oor die nabyheid van geprofeteerde gebeurtenisse wat nog in die toekoms lê. In hierdie artikel sal ons die betekenis van seisoensjare, profetiese jare en millennia in oënskou neem met spesifieke verwysing na Israel se tydsberekening en ook na die eerste en tweede koms van die Messias.

Seisoensjare

Die mees algemene tydsberekening in die wêreld is op seisoensjare gebaseer, waarna ook soms as sonjare verwys word. In hierdie tydseenhede lei die oënskynlike kringloop van die son (eintlik die posisie van die aarde in sy baan rondom die son) na die verskynsel van verskillende seisoene, naamlik lente, somer, herfs en winter. Elke jaar word ook in maande verdeel, gebaseer op ‘n volle siklus van die maan van een nuwemaan af tot by die volgende een. Maande word in weke van sewe dae elk verdeel, terwyl dae uit 24 ure bestaan – omtrent 12 ure in die nag (vier nagwake van drie ure elk, van sononder tot 9-uur, van 9 tot 12, van 12 tot 3 en van 3-uur tot sonsopkoms) asook min of meer 12 ure in die dag tussen die opkoms en ondergaan van die son.

Die probleem is dat hierdie verskillende tydseenhede nie ten volle met mekaar sinchroniseer nie. Daar is presies sewe dae in ‘n week, maar daar is nie ‘n presiese aantal weke in ‘n maanmaand nie en ook nie ‘n presiese aantal maanmaande in ‘n seisoensjaar nie. ‘n Maanmaand is 29½ dae lank (die lengte van maande op die Joodse kalender wissel tussen 29 en 30 dae elk) en lei na ‘n sogenaamde “maanjaar” van 354 dae. Dit is 11¼ dae korter as ‘n seisoensjaar van 365¼ dae.

Israel volg nog steeds maanmaande wat van een nuwemaan tot by die volgende een strek. Hulle het egter nie maanjare nie maar seisoensjare, aangesien sekere maande op hulle kalender direk met bepaalde seisoensveranderings in die jaarlikse landbousiklus in verband staan. Nisan staan altyd met die lente in verband, terwyl Tisri met die insameling van die oes in die herfs saamval. Ten einde met seisoensjare tred te hou, het Israel skrikkeljare ingestel waarin ‘n 13de maand van 29 dae (We-Adar, of Tweede Adar) aan die einde van die jaar bygevoeg word. In elke siklus van 19 jaar is daar sewe sulke skrikkeljare, naamlik jare no. 3, 6, 8, 11, 14, 17, en 19.

In die Gregoriaanse kalender is die lengte van maande aangepas sodat daar presies 12 maande in elke seisoensjaar is, wat tot gevolg het dat die maande nie met die siklusse van die maan saamval nie. Die basiese feit is dat beide die Gregoriaanse en Joodse kalenders op seisoensjare gebaseer is. As gevolg van die veel langer skrikkeljare in die Joodse kalender, wissel hulle jaarlikse feeste soms tot ‘n maand of langer op die Gregoriaanse kalender, maar dit verloor nooit heeltemal tred daarmee nie. Die beginpunt van jare is ook heel verskillend. Israel het ‘n siviele kalender wat op die eerste dag van Tisri (Rosh Hashanah) begin, terwyl hulle ook ‘n godsdienstige kalender het wat in die lentemaand Nisan begin, wat vroeër Abib genoem is (vgl. Ex. 12:2). In die Gregoriaanse kalender is die beginpunt van jare kort ná die winter-sonstilstand in die noordelike halfrond op 1 Januarie.

Profetiese jare en jaarweke

Daar is ook ‘n ander kalender in die Bybel, waarna soms as die profetiese kalender verwys word. Hierdie jare is 360 dae lank en bestaan uit 12 maande van 30 dae elk. Die belangrikste rede vir hierdie kalender, waarna in Daniël 9:24-27 en Openbaring 11 tot 13 verwys word, is om ‘n presiese aftelling na die eerste en tweede koms van die Messias moontlik te maak – selfs in dae. Ander belangrike gebeurtenisse wat direk voor die Messias se wederkoms sal plaasvind, word ook in hierdie tydsraamwerk geplaas. Dié kalender vervang nie die Joodse of Gregoriaanse kalenders nie, maar sny oor hulle heen ten einde die tyd van sekere belangrike gebeurtenisse bo enige twyfel vas te stel.

Hierdie kalender word duidelik nie op die kerkbedeling toegepas nie, en maak dus nie ‘n berekening van die tyd van die Messias se geheime koms voor die hervatting van die jaarweeksiklus moontlik nie, wanneer Israel ‘n verbond met die valse messias sal sluit. Slegs die 70ste jaarweek is nog onvervuld in die siklus van 70 jaarweke wat in Daniël 9 bespreek word. In die Nuwe Testament word hierdie jaarweek as die verdrukking beskryf, waarvan die laaste helfte die groot verdrukking sal wees (Matt. 24:21,29; Op. 7:14). Wanneer hierdie jaarweek begin het, sal dit moontlik wees om die presiese datum vir die halfpadmerk daarvan te bepaal, asook die einde van die week wanneer die Messias weer sal kom. Laat ons hierdie wyse van tydsberekening verder ondersoek.

Daniël bied ‘n baie merkwaardige profesie aan waarin Israel se heilsgeskiedenis vanaf die einde van die Babiloniese ballingskap tot aan die begin van die Messias se vrederyk bespreek word: “Sewentig sewetalle is oor jou volk [Israel] en jou heilige stad [Jerusalem] bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors [die Messias] is sewe sewetalle; en 62 sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die 62 sewetalle [m.a.w. ná 7 plus 62 sewetalle] sal ‘n Gesalfde [die Messias] uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom” (Dan. 9:24-26).

Die beginpunt van hierdie profesie was die toestemming deur die Persiese koning, Artasasta, dat die Jode na hulle land kon terugkeer om Jerusalem en die tempel weer op te bou. Die Jode in die ballingskap was in ‘n vertrapte en, menslik gesproke, hopelose toestand. Die koninklike familie en die heersers van Juda is almal deur die koning van Babel doodgemaak (Jer. 52:10-11). Jerusalem was verwoes en die indrukwekkende tempel van Salomo het in puin gelê. ‘n Klein oorblyfsel in Israel – insluitende lede van die verstrooide suidelike koninkryk van Juda, asook lede van die noordelike tienstammeryk van Israel wat vroeër reeds verstrooi is – was in Babilonië en het ‘n donker toekoms in die gesig gestaar.

Gedurende hulle ballingskap het Daniël oor die uiteindelike herstel van Israel, hulle land en hulle hoofstad geprofeteer. Hy het gesê dat ná 70 jaarweke (70 X 7 profetiese jare) daar ‘n besliste einde aan Israel se nasionale sondes sal wees, wat beteken dat die oorblyfsel van die volk deur die Messias met God versoen sal wees. Hierdie toekomsvisie van Israel se verlossing word deur al die profete bevestig (vgl. Jes. 49:5-6; Jer. 31:31-34; Eseg. 36:22-28; Hos. 14:5-7; Sag. 8:23, 13:1) asook deur Paulus in die Nuwe Testament (Rom. 11:26). Sagaria sê dat hierdie wonderlike gebeurtenis ná ‘n persoonlike ontmoeting met die Messias tydens sy wederkoms sal plaasvind (Sag. 12:10; 14:4-5). Eers dan sal daar ewige geregtigheid vir Israel aanbreek. Al die profesieë oor hulle geestelike herstel en daaropvolgende seëninge onder die regering van die Messias sal dan vervul en verseël wees. Die tempel van die millennium sal ook gebou en aan die Here toegewy wees (Eseg. 40 tot 44).

Daniël het egter nie ‘n vinnige en probleemvrye geskiedenis vir Israel voorsien tot in die stadium wanneer die profesieë oor hulle geestelike herstel finaal vervul sal wees nie. Inteendeel! Hy het gesê dat die stad en tempel vir sewe jaarweke lank in tye van benoudheid herbou sou word. Israel se benoudheid sou nie daar ophou nie, maar verder voortduur totdat die Messias aan die einde van 69 jaarweke “uitgeroei” sou word. Dit is presies wat hulle as ‘n volk gedoen het, omdat hulle die Messias verwerp en oorgelewer het om gekruisig te word. Jesaja sê dat Hy “afgesny is uit die land van die lewendes” (Jes. 53:8). Dit beteken dat Israel hulle bande met Hom verbreek het en hulleself as gevolg daarvan tydelik van God se heilsplan afgesny het. Daar is in God se heilsplan geen toekoms vir Israel as volk sonder dat hulle die Messias ten volle aanvaar nie. Hulle vervreemding van God sou uiteindelik daartoe lei dat hulle ‘n verbond met die valse messias sluit (Dan. 9:27).

Die Here Jesus het die Jode duidelik gewaarsku dat indien hulle Hom verwerp, dit tot die verwoesting van hulle land en stad sou lei, en ook tot hulle internasionale verstrooiing (Matt. 23:37-38; Luk. 19: 41-44; 21:20-24). Gedurende die tyd van hulle geestelike blindheid sou die nie-Joodse wêreld geëvangeliseer word (Matt. 28:19).

Aangesien die kerkbedeling nie aan die Ou Testamentiese profete geopenbaar is nie, het Daniël nie die gevolge van Israel se verwerping van die Messias aangedui nie, naamlik hulle internasionale verstrooiing tydens die kerkbedeling. Aan die einde van die kerkbedeling sou Israel weer in hulle land herstel word. Aangesien hulle weens die voortgesette verwerping van die Messias steeds in ‘n toestand van nasionale rebellie teenoor God verkeer, is daar steeds geen einde aan hulle lang geskiedenis van benoudheid wat hulle tydens die Assiriese en Babiloniese ballingskap beleef het, tydens hulle daaropvolgende herstel in ongeloof, in hulle internasionale verstrooiing as gevolg van die verwerping van Jesus as Messias, en ook tydens hulle eindtydse herstel in ongeloof nie. Die Here het gesê dat Hy hulle in Jerusalem bymekaar sou maak om die vuur van sy toorn teen hulle aan te blaas (Eseg. 22:18-22). Uit hierdie pynlike proses van beproewing en benoudheid sal ‘n oorblyfsel gered word (Sag. 13:8-9; Rom. 9:27).

Die noodwendige gevolg van die verwerping van die ware Messias was geestelike blindheid, wat uiteindelik daartoe sal lei dat die volk ‘n verbond met die valse messias sal sluit (Joh. 5:43). Dit sal na die grootste probleme en benoudheid lei wat die volk nog ooit ervaar het. Jeremia sê dat dit ‘n tyd van benoudheid vir Jakob sal wees (Jer. 30:7). Die Here Jesus het gesê dat hulle ‘n groot verdrukking sal beleef soos wat daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:21-22). Aangesien die komende verdrukking ‘n tyd van lyding en reiniging sal wees waaruit ‘n oorblyfsel van Israel gered sal word, vorm hierdie sewe jaar-tydperk weer ‘n deel van hulle heilsgeskiedenis. Hulle sal die siklus van 70 jaarweke hervat wanneer hulle met die valse messias ‘n verbond sluit.

Daniël sê: “...en die volk van ‘n vors wat sal kom [die valse messias], sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy [die valse messias] sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week [ná 3½ jaar] sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word” (Dan. 9:26-27).

Hierdie laaste jaarweek in Israel se heilsgeskiedenis tussen die Babiloniese ballingskap en die bedeling van geregtigheid gedurende die regering van die Messias, sal nét so letterlik as die eerste 69 jaarweke vervul word. Dit sal wêreldwyd ‘n tyd van groot rampe en goddelike oordele wees, wat na die wederkoms van die Messias sal lei. In hierdie tyd sal die lotgevalle van Israel en die nasies finaal bepaal word. ‘n Oorblyfsel van Israel en die nasies sal gered word, maar die meerderheid sal tot hulle eie verderf en ondergang ‘n verbond met die valse messias (die Antichris) sluit.

Aangesien die 70ste jaarweek deel van Israel se heilsgeskiedenis is, is dit nie ‘n deel van die kerkdispensasie nie. Die kerkbedeling sal formeel deur die wegraping van die ware gelowiges beëindig word, en aan die Antichris die geleentheid bied om geopenbaar te word en sy verbond met Israel en die nasies te sluit (2 Thess. 2:6-8). Hierdie jaarweek is duidelik in twee helftes van 3½ jaar elk verdeel, wat ook as 42 maande (Op. 11:2; 13:5) of 1260 dae elk (Op. 11:3; 12:6) uitgedruk word. Dit laat geen twyfel oor die letterlike aard van die laaste sewe jaar nie, wat ‘n presiese aftelling na die koms van die Messias op die Olyfberg sal wees. Hierdie tydperk kan nie simbolies of metafories verklaar word nie.

Die gelykstelling van 3½ jaar met 42 maande of 1260 dae bepaal die tydsraamwerk van profetiese jare wat uit 12 maande van 30 dae elk bestaan. Hulle is effens korter as seisoensjare, maar maak nogtans ‘n noukeurige aftelling tot by die eerste én tweede koms van die Messias moontlik. Daniël sê hierdeur vir ons dat 69 jaarweke (483 profetiese jare) sou verloop tussen die opdrag deur Artasasta om Jerusalem te herbou (Neh. 2:1-8) en die dood van die Messias. Dit is ‘n tydperk van 173 880 dae. Artasasta se opdrag is op 1 Nisan 445 v.C. gegee en Jesus is op 14 Nisan 32 n.C. gekruisig. Die tydperk tussen hierdie twee datums is inderdaad 483 profetiese jare, of 173 880 dae. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, stel dit 476,06 seisoensjare op die Gregoriaanse kalender voor. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop. Dit was ‘n baie merkwaardige en letterlike vervulling van ‘n Bybelse profesie.

Met die kruisiging van die Here Jesus het die horlosie vir Israel as ‘n volk in God se heilsplan gaan staan, en het die evangelisering van die nie-Joodse wêreld begin. Dit beteken dat Israel tydelik sy posisie as die spesiale dienskneg en mondstuk van God verloor het en dat alle mense op aarde, insluitend die verstrooide Israeliete, die geleentheid sou kry om Jesus Christus as hulle Messias en Verlosser aan te neem en sodoende deel van die koninkryk van God te word.

Met die huidige herstel van Israel en die stad Jerusalem is ons baie naby aan die einde van die tye van die nasies (Luk. 21:24). Dit beteken dat die laaste jaarweek van Israel se heilsgeskiedenis moet verloop voordat die oorblyfsel van die volk vir Jesus op een dag sal aanvaar om gered te word (Sag. 3:9). Omdat Israel in ‘n geestelik verblinde toestand in hulle land herstel word, is dit duidelik dat hulle deur die valse messias mislei gaan word. Wanneer die valse messias homself presies in die middel van die 70ste jaarweek in die herboude tempel in Jerusalem tot God sal verklaar (2 Thess. 2:4; Dan. 11:36), sal Israel besef dat hy ‘n valse ‘verlosser’ is wat oor sy ware identiteit vir hulle gelieg het, en dat hy in werklikheid daarop uit is om hulle te verdelg.

Die Antichris sal ‘n beeld van homself in die Allerheiligste van die herboude tempel in Jerusalem laat oprig en eis dat alle mense hom aanbid (Dan. 9:27; 11:31,36). Hy sal dan as ‘n genadelose diktator en selfverklaarde God geopenbaar word, wat die aanbidding en verering van alle mense op aarde sal eis. Israel sal verbied word om verdere offers aan God (Jahweh) te bring.  Hiermee saam sal die Antichris ‘n sataniese skrikbewind instel, en die hele wêreld sal met ‘n skok uit die vrede en valse gerustheid ontwaak wat hulle die eerste 3½ jaar geniet het: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Israel sal geweldig ontnugter wees wanneer hulle besef dat hulle ‘n valse messias nagevolg en aanbid het wat voorgegee het dat hy God is. Hulle sal onmiddellik hulle verbond met hom verbreek en hom verwerp.

Soos in Wêreldoorlog II, sal ‘n volksmoord in die tweede helfte van die verdrukking teen die Jode gepleeg word – dit is in die 3½ jaar periode wat as “die groot verdrukking” of “die tyd van benoudheid vir Jakob” bekend staan (Jer. 30:7). Die ware Messias het hierdie tyd van groot benoudheid in sy profetiese rede beskryf: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom... dan moet die wat in Judea is na die berge vlug... Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:15-21).

Hierdie duidelike profesie deur die Messias oor die eindtyd is ‘n onweerlegbare bewys van die feit dat Daniël se profesieë nie almal in Ou Testamentiese tye vervul is nie. Daniël verwys ook in sy profesieë oor die eindtyd na die donker dae van die komende verdrukking onder die Antichris se leiding: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Dan. 11:31).

Tydens die hoogtepunt van die groot verdrukking sal die Messias kom: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30). “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sag. 14:4). Christus sal dan die valse messias, die valse profeet en hulle leërs verdelg (Op. 19:19-21).

Dit was met die oog op hierdie tyd van geweldige verdrukking en demoniese misleiding dat die Here aan Israel ‘n aftelling tot by sy wederkoms gegee het: “Dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan... En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en 1335 dae bereik” (Dan. 12:1,11-12).

Van die tyd af dat die valse Messias die offerdiens sal verbied en die tempel ontheilig deur ‘n beeld van homself daarin te plaas, sal 1260 dae verloop totdat die ware Messias sy voete op die Olyfberg sit (Dan. 9:27; Op. 13:5). Ná ‘n verdere 30 dae van rou (vgl. Sag. 12:10-11; Num. 20:29; Deut. 34:8) sal die geestelike vereniging tussen Israel en die Messias voltooi wees. Dan sal daar 1290 baie dramatiese dae verloop het sedert daardie donker dag van openlike rebellie teen die koninkryk van die hemel, toe die valse messias homself in die tempel tot God verklaar het.

‘n Verdere 45 dae sal deur die bruilofsmaal van die Lam, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem en die oordeel oor die nasies in beslag geneem word (Op. 19:7-9; Hand. 15:16-17; Matt. 25:31-32). Wanneer die Messiasryk formeel begin, sal 1335 dae verstryk het sedert die aanvang van die valse Messias se skrikbewind toe sy afgodsbeeld in die tempel opgerig is. Jode wat hierdie verskriklike tyd oorleef, sal ná die 1260 dae van die groot verdrukking die koms van die Messias aanskou. Ná 1290 dae sal hulle geestelik met Hom versoen wees, en ná 1335 dae sal hulle die beloofde ryk van die Messias binnegaan. Dan sal ewige geregtigheid vir hulle as volk van God aanbreek terwyl die Messias uit Jerusalem regeer (Jes. 2:2-4).

Dit is baie duidelik dat die profesie van die 70 jaarweke ‘n eksakte en betroubare aftelling na die eerste én tweede koms van die Messias insluit, terwyl dit ook die tydperk van die valse messias se regering in profetiese jare, maande én dae aftel. Hierdie profesie gee egter nie aan ons enige aanduiding van hoe lank die kerkbedeling sou wees wat ná die “uitroei” of “afsny” van die Messias deur Israel verloop nie. Ander Skrifgedeeltes sal hieroor geraadpleeg moet word.

Millennia

Die Here het nie gesê hoe lank die kerkbedeling sou wees nie, behalwe vir ‘n benaderde aanduiding dat sy bediening van gesondmaking en verlossing vir “twee dae” (van ‘n duisend jaar elk) sou voortduur. In God se tydsberekening is daar nie net ‘n week van dae (7 dae; vgl. Lev. 23:3), ‘n week van weke (49 dae; vgl. Lev. 23:15; Deut. 16:16), en ‘n week van jare nie (7 jaar; vgl. Lev. 25:3-8; Dan. 9:24-27), maar ook ‘n week van millennia (7000 jaar; vgl. 2 Pet. 3:8). In die laasgenoemde geval verteenwoordig een dag ‘n duisend jaar (vgl. Hos. 6:1-2 en Luk. 13:32 waarin sulke dae bedoel word).

In die week van menslike heilsgeskiedenis op aarde verloop daar twee dae tussen Adam en Abraham, twee dae tussen Abraham en Christus, en twee dae tussen Christus se eerste en tweede koms, terwyl die sewende dag die duisendjarige vrederyk van Christus sal wees. Gedurende die sewende dag, wat ook as “die dag van die Here” beskryf word, sal Christus as Regter én Koning geopenbaar word (vgl. Jes. 13:9; Sag. 14:9; Op. 6:16-17; 20:6).

Die einde van ‘n dispensasie

Indien al hierdie tekens beoordeel word binne die raamwerk van ‘n laaste geslag wat duidelik deur die Here Jesus self beskryf is, dan het ons uit onlangse gebeure meer as genoeg getuienis dat die wêreld op ‘n tyd van ongekende rampe afstuur – sommige van hulle mensgemaak, terwyl ander deur ‘n goddelike skudding van die natuur se kragte veroorsaak sal word. Die erns van die komende verdrukking as God se oordele oor die goddeloses, word met die groot katastrofes vergelyk wat in die tyd Noag en Lot voorgekom het (Luk. 17:26-30). Soos in daardie vroeë tye, word gelowiges weer ernstig gewaarsku om vir ‘n ontruiming van die gebied van goddelike oordele gereed te maak – in hierdie geval ver weg van die planeet aarde af, wat in sy geheel getref sal word.

Noag moes ‘n ark bou om die vernietiging van die groot vloed te ontsnap. Lot en sy familie moes na die berge vlug om die verwoesting van Sodom en Gomorra deur vuur te ontsnap. Ons word vermaan om te waak en bid sodat ons waardig sal wees om al die verskriklike dinge wat tydens die verdrukking oor die aarde sal kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36). Dit beteken letterlik dat ons die aarde in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, sal verlaat om die Here in die lug te ontmoet (1 Kor. 15:51-52; 1 Thess. 4:16-17). Christus sal sy bruid van die aarde af wegneem na haar hemelse woning wat Hy vir haar gaan berei het (Joh. 14:2-3).

Die bruid moet heilig leef en gedurig vir die skielike koms van die Bruidegom gereed wees: “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie” (Matt. 25:13). Ons weet beslis nie op watter uur en dag die Here Jesus ons sal kom haal nie, maar ons weet dat dit naby is: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28).

Ons weet vir seker dat ons in ‘n gevorderde stadium van die laaste geslag is, waarvan Jesus Christus gesê het: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie” (Luk. 21:32). Die Here sal nie na ‘n geslag verwys waarvan ons die beginpunt nie uit sy Woord kan bepaal nie. Ons moet nie nalaat om op die tekens van die tye ag te slaan nie: “Wanneer julle ‘n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie? (Luk. 12:54-56). Net so seker as wat die westewind in Israel vogtige lug van die Middellandse See af inbring, en die suidewind hitte van die Negef-woestyn af inwaai, is die huidige tekens in die wêreld ‘n voorspel tot die tyd van groot rampe en oordele wat vir die hele wêreld voorspel is.

Het jy gemerk dat die vyeboom ná Israel se verstrooiing van byna twee millennia gebot het? (Luk. 21:29-30). Hosea het gesê dat die Here vir Israel ná twee dae (2000 jaar) van swaarkry en vervolging geestelik sal lewend maak, sodat hulle in die derde duisend jaar voor sy aangesig kan leef (Hos. 6:1-2). Het jy gesien hoedat die laaste geslag ontwikkel het tot in die stadium dat Jerusalem as Israel se hoofstad herstel is nadat dit eeue lank deur nie-Joodse volke vertrap is? (Luk. 21:24). Is jy bewus van die onheilspellende koers van gebeure wat duidelik na ‘n groot verdrukking lei soos daar nog nooit op aarde was nie? Weet dan dat die tyd van God se toorn oor die goddeloses baie naby is.

Indien jy ongered is, het jy alle rede om diep bekommerd te wees, en selfs te wanhoop, omdat daar menslik gesproke geen manier is om die komende oordele oor die sondaars te ontvlug nie. Indien jy egter die Here Jesus as jou Verlosser aangeneem het, sal jy nie in die oordele oor die goddeloses kom nie (Joh. 5:24; Rom. 8:1). In plaas daarvan sal jy vir die hemelse Bruidegom wag wat ons van die toekomstige toorn sal verlos (1 Thess. 1:10), “want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus” (1 Thess. 5:9).

Soos in die tyd van Noag en Lot, sal uiterste verwoesting die goddeloses oorval spoedig ná die vertrek van diegene wat soos ligte geskyn het te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Dan sal die teëhouer teen uiterste goddeloosheid en misleiding weg wees (2 Thess. 2:6-10), en daardeur die moontlikheid skep vir ‘n tyd van onbeteuelde manifestasies van die koninkryk van die duisternis op aarde.
Andrew Murray 32