Print

Die Belofte van die Wegraping in Thessalonicense

Written by Prof Johan Malan.

Paulus bied ’n baie duidelike uiteensetting van die wegraping aan in sy twee sendbriewe aan die Thessalonicense. Dit is ’n belangrike tema in Bybelse profesieë, en daarom ’n leerstelling wat goed verstaan moet word. Die volgende is ’n basiese stelling oor die wegraping:

“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:13-18).

’n Aantal baie duidelike en letterlike stellings word in hierdie gedeelte gemaak:

  • Die eerste opstanding is slegs vir dié wat in Christus gesterf het, en dit sal tydens die wegraping plaasvind. Ontslape gelowiges sal uit hulle grafte opstaan met onsterflike, verheerlikte liggame. Dit is ’n vaste Bybelse feit dat die tweede opstanding vir ongelowiges eers aan die einde van Christus se duisendjarige vrederyk sal plaasvind (Op. 20:5-6).
  • Die ontslape gelowiges (bestaande uit hulle gees en siel sonder ’n liggaam) sal die Here Jesus vergesel wanneer Hy van die hemel af neerdaal. Dit word duidelik gestel dat Christene wat sterf, ná hulle dood direk hemel toe gaan en nie na die paradys in die onderste dele van die aarde, soos wat die geval met Ou Testamentiese gelowiges was nie (vgl. Fil. 1:23). Die paradys is nou in die hemel (2 Kor. 12:4), omdat gelowiges ná die kruisiging en opstanding van Christus nie meer in ’n spesiale plek van bewaring gehou moes word waar hulle op die vervulling van die belofte oor die Messias gewag het nie (vgl. Heb. 11:39-40; die soendood van die Lam van God het al die skaduagtige offers vervul wat vir Ou Testamentiese gelowiges gebring is – Heb. 10:1-18).
  • Die opstanding self sal op aarde gebeur, waar die ontslape heiliges hulle verheerlikte liggame sal ontvang (vgl. Fil. 3:20-21). Hulle sal terugkeer na die plekke waar hulle begrawe is, om daar hulle nuwe liggame te ontvang.
  • Onmiddellik ná die opstanding sal alle lewende heiliges in ’n oogwink van sterflikheid na onsterflikheid verander word (1 Kor. 15:51-52). Die lede van die liggaam van Christus sal dan in ’n enkele groep verheerlikte wesens verenig wees, waarna nog net diegene bygevoeg sal word wat in die sewe jaar lange verdrukking gered sal word.
  • Direk ná hulle verandering na onsterflikheid, sal die verenigde groep gelowiges weggevoer word die Here tegemoet in die lug, waar hulle fisies verenig sal word met hulle Bruidegom, wat ook Hoof van die kerk is. “Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10).
  • Hierdie ontmoeting sal beslis nie op aarde plaasvind nie, daarom vorm dit nie deel van Christus se wederkoms wanneer Hy sy voete op die Olyfberg sal sit en elke oog Hom sal sien nie. Tydens die wegraping kom Christus in die geheim, soos ’n dief in die nag (1 Thess. 5:2). Slegs die gelowiges sal Hom sien – die ander mense op aarde sal Hom nie tydens die wegraping sien nie, maar getref word deur die skielike afwesigheid van die ware gelowiges. Naamchristene en teruggevallenes sal agterbly.
  • Die verheerlikte kerk van Christus sal saam met Hom na die hemel terugkeer, na die wonings wat Hy vir hulle gaan voorberei het (Joh. 14:2-3). Van daardie oomblik af sal hulle altyd by die Here wees. Hulle sal mede-erfgename van sy koninkryk wees (Rom. 8:17), ná sewe jaar saam met Hom terugkeer aarde toe (Kol. 3:4; Sag. 14:4-5), en ook saam met Hom as konings regeer (Op. 5:9-10; 20:6).

Dit is belangrik om die belofte van die wegraping te verstaan en altyd die verwagting van hierdie salige hoop te koester. Dit sal jou help om vir die hiernamaalse lewe voor te berei en jou prioriteit in die lewe reg te bepaal, sodat sekulêre doelwitte nie so belangrik word dat dit jou uitsig op die koms van die Here Jesus sal laat verflou nie (vgl. Tit. 2:11-13). Prof. Walvoord sê:

“Kennis van die leerstelling oor die wegraping is nie net van teologiese belang nie, maar ook ’n baie praktiese saak. Die vroeë kerk het die koms van Christus enige oomblik verwag. Dit is wat die Thessalonicense geleer is om te doen, en hieraan het hulle geglo. Dit was ’n kenmerk van die vroeë Christene dat hulle die wederkoms liefgehad het (2 Tim. 4:8). Dit beteken dat hulle nie net die Verlosser liefgehad het nie, maar ook verlang het om Hom van aangesig tot aangesig in al sy heerlikheid te sien en vir altyd met Hom verenig te word. Wanneer die leer oor die wegraping afgeskeep word, dan skeep mense ook die wonderlike hoop af wat bedoel is om soos ’n helder ster te wees in ons Christelike lewe en getuienis, en ook in ons toekomsverwagting en hoop” (Walvoord, 1995:258-259).

Die tyd van die wegraping

Paulus het aan die Thessalonicense geen aanduiding gegee oor die duur van die kerkdispensasie en die tyd van die wegraping nie, as net om te sê dat die wegraping direk voor die aanbreek van die dag van die Here sal plaasvind. Paulus het waarskynlik tydens  sy besoek aan die gemeente intensiewe onderrig gegee oor die dag van die Here, wat ’n tyd van die uitstorting van goddelike toorn oor die bose en ongelowige wêreld sal wees. Daar is verskeie Ou Testamentiese gedeeltes waarin besonderhede oor hierdie vreeslike tyd van oordele gegee word (vgl. Jes. 13:9-13; 24:1-23; Joël 2:11, 31; Sef. 1:14-16). Gelowiges is gemaan om hulleself geestelik voor te berei om waardig te wees om die komende oordele te ontvlug (vgl. Luk. 21:36).

Paulus het dit sterk op die gemeente se harte gelê “om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10). Later in die sendbrief het hy die belofte van ontvlugting voor die oordele herhaal: “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus” (1 Thess. 5:9). Die toorn van God sou net oor die ongelowiges kom.

Dit is duidelik dat nie net die gemeente nie, maar ook die apostel self, ’n korttermyn verwagting op die koms van die Here gehad het – selfs in hulle eie leeftyd. Paulus het homself by diegene gevoeg wat nog sou lewe wanneer Christus kom: “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word ...” Dit is ’n belangrike kenmerk van die Christelike lewe: ons moet almal die spoedige koms van Christus verwag, want dit is ’n sterk motivering vir persoonlike heiligheid, asook die korrekte bepaling van ons doelstellings sodat ons werke kan doen wat ewigheidswaarde het. Sonder hierdie verwagting kan gelowiges sodanig by korttermyn, sekulêre doelstellings betrokke raak dat hulle hul uitsig op die ewigheid verloor, en só ’n ingesteldheid sal hulle geestelike roeping en pligte marginaliseer.

Misleiding

Na Paulus se eerste brief aan die Thessalonicense het leerstellige misleiding ingesluip en by gelowiges onsekerheid oor die voorverdrukking-wegraping laat ontstaan. Christene is toenemend vervolg deur die amptenare van die Romeinse Ryk, wat hulle heidense gebruike en sienings op die klein Christelike gemeentes afgedwing het. Die jong gelowiges het tot die gevolgtrekking gekom dat die dag van die Here inderdaad ongesiens gekom het, soos ’n dief in die nag, en dat Paulus se versekering dat hulle die toorn van God sou ontvlug, nie waar was nie. Afgesien van valse profesieë wat hieroor in die gemeente uitgespreek is, is daar ook ’n vervalste brief gesirkuleer wat na bewering van Paulus af gekom het, waarin gesê is dat gelowiges deur die verdrukking en lyding van die dag van die Here sou moes gaan. Paulus het sy tweede sendbrief aan hulle geskryf om die volgorde van eindtydse gebeure te herbevestig, en dit het die wegraping voor die verdrukking ingesluit.

2 Thessalonicense 2 is ’n hoogs betekenisvolle hoofstuk in die Christelike eskatologie. Thomas Constable (1983:717) sê: “Hierdie aantal verse (2 Thess. 2:1-12) bevat waarhede wat nêrens elders in die Bybel voorkom nie. Dit verskaf ’n sleutel tot die verstaan van toekomstige gebeure en is van sentrale belang in hierdie sendbrief.” In die eerste vyf verse sê Paulus:

“Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees – asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?” (2 Thess. 2:1-5).

Die vertrek

Paulus se tweede sendbrief aan die Thessalonicense is ook in ons tyd besonder toepaslik omdat baie Christene in die eindtyd slagoffers is van dieselfde dwalings op grond van die verkeerde vertolking van Bybelse profesieë. Valse, buite-Bybelse profesieë neem geweldig toe, en ten spyte van die ernstige waarskuwing in Openbaring 22:18-19, laat baie mense hulleself beïnvloed deur die misleidende leerstellings van selfaangestelde profete wat na bewering hulle boodskappe direk van God af ontvang het. Benewens hierdie “profete” is daar ook teoloë en leraars wat Bybelse profesieë verkeerd vertolk deur hulle te allegoriseer en te vergeestelik, of histories te verklaar (preterisme), as sou hulle reeds in historiese tye in vervulling gegaan het. Sodoende verwerp hulle die waarskuwing oor die eindtydse uitstorting van God se toorn tydens die komende dag van die Here.

Verder is daar ook misleidende vertalings van sekere woorde in die oorspronklike tale van die Bybel, wat die betekenis van ’n teks in sekere gevalle radikaal kan verander. Een so ’n woord is in 2 Thessalonicense 2:3 – die Griekse woord apostasia. Die naamwoord apostasia beteken slegs “die vertrek” of “die wegname”. Wanneer gesê of geïmpliseer word dat daar van die waarheid af vertrek word, kan ’n afgeleide of sekondêre betekenis van ’n morele of geestelike afval wél aan apostasia gekoppel word, maar dan moet die res van die sin aandui dat die woord in so ’n verband gebruik word.

Apostasia is van die werkwoord afistemi afgelei, wat beteken “om te vertrek” of “weg te gaan”, en kan dus in verskillende verbande gebruik word. Paulus vermaan die Hebreeuse gelowiges: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Heb. 3:12; my beklemtoning; in Engels kom die betekenis van afistemi duideliker uit, want die NKJV verwys na afvalligheid as “departing from the living God”). In verband met die eindtydse afvalligheid sê Paulus: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word” (1 Tim. 4:1; my beklemtoning; die Engels beskryf dit as “depart from the faith”).

In beide gevalle word die konteks van “vertrek” duidelik gestel, maar die begrip “afvalligheid” is beslis nie deel van die betekenis van afistemi self nie. Hierdie feit word bewys deur die ander gebruike van dieselfde woord. In die volgende teks word afistemi in die teenoorgestelde verband van “afvalligheid” gebruik: “Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid” (2 Tim. 2:19; die Engels lui: “... depart from iniquity”).

In 2 Thessalonicense 2:3 word dit nie gesê van waar tot waar, of van watter toestand na watter ander toestand, die vertrek (apostasia) plaasvind nie. Die konteks van hierdie aksie word egter duidelik in die voorafgaande twee verse gestel: “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom [die wegraping], om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees – asof die dag van Christus [die verdrukking] al daar is.”

’n Aansienlike toename in die vervolging van Christene het tot die misleidende idee en foutiewe gerugte gelei dat daar nie, soos deur Paulus belowe is, ’n vertrek, of wegname, van gelowiges voor die uitstorting van goddelike toorn sou wees nie. Baie van die gelowiges in Thessalonika het die idee aanvaar dat hulle reeds in die dag van die Here was, daarom is die belofte van ’n voorverdrukking-wegraping, soos vroeër deur Paulus verkondig en ook in sy eerste sendbrief verduidelik is (1:10; 5:9), skielik ernstig bevraagteken. Hulle was geneig om die nuwe beskouing te aanvaar dat die Christene nie vooraf weggevoer sou word uit die toneel van goddelike oordele nie.

In 2 Thessalonicense 2:3-4 het Paulus bevestig dat die dag van die Here (die tyd van oordele) eers ná die vertrek (apostasia) ’n aanvang sou neem, waarna die Antichris na vore sou tree en homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God sou verklaar. Die boodskap was duidelik: die eerste eeu se lyding van die Thessalonicense was nie deel van die dag van die Here nie, die Romeinse Ryk of sy keiser was nie die Antichris nie, en daarom het die belofte van die vertrek, of wegraping, voor die uitstorting van goddelike toorn, steeds gestaan. Die verdrukking wat Christene verduur het, was nie goddelike oordele nie, maar deel van die goddelose wêreld waarin hulle geleef het.

In verse 5 tot 8 herbevestig Paulus dat die teenwoordigheid van die kerk op aarde ’n teëhouende faktor teen die openbaring van die Antichris is: “... net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word.” Hierdie duidelike stelling behoort die probleem oor ontvlugting op te los. Voortgesette eskatologiese misleiding wat volg uit ’n verkeerde vertolking van apostasia, dwing ons egter om die betekenis van hierdie woord in Grieks én in sy vertaalde vorm verder te ondersoek sodat groter duidelikheid oor die saak verkry kan word.

Daar is steeds diegene wat ’n wegraping in die middel of aan die einde van die verdrukking verkondig, gebaseer op die aanname dat die kerk eers in die middel van ’n apokaliptiese proses van afval sal wees, en ook vir ’n tyd lank die Antichris sal sien en deur hom verdruk sal word, voordat die Here ons in die middel of na aan die einde van die wegraping sal wegvoer. In plaas daarvan dat hulle ’n skielike vertrek na die hemel verwag, het sulke mense ’n Antichris-verwagting en beplan verskillende strategieë om vir ’n sekere gedeelte van die verdrukking op aarde te kan oorleef.

Ondersteunende argumente

Dr. House (1995:261-296) dui aan dat daar voor die verskyning van die King James-vertaling in 1611, waarin apostasia as “falling away” aangedui word, sewe Engelse Bybels was waarin hierdie woord korrek as “departing first” vertaal is. Onder hulle was die Wycliffe Bible van 1384, die Tyndale Bible van 1526, en die Geneva Bible van 1608. As gevolg van die groot impak en algemene aanvaarding van die KJV, het feitlik alle Engelse woordeboeke daarna die woord “apostasy” verklaar as ’n geestelik-morele afval, of selfs ’n rebellie. Dieselfde het in Afrikaans en verskeie ander tale gebeur. Hierdie betekenisse was egter net op enkele toepassings van apostasia gebaseer. Dr. House (1995:272-274) sê:

“Daar kan min twyfel wees dat die naamwoord apostasia meesal in buite-Bybelse literatuur vertaal is met ’n nie-ruimtelike betekenis van ontrouheid, rebellie, afvalligheid of opstand. In die Septuagint (LXX) verwys hierdie naamwoord meesal na opstand teen die regering, of afvalligheid van geloof in Jahweh. Die woordeboeke bied verdere bewyse van hierdie betekenisse aan. Indien ’n mens bloot die aantal kere sou tel waarin apostasia met hierdie betekenisse gebruik word, of jouself net op woordeboeke verlaat, dan sou jy geen saak kon uitmaak dat dié woord as “wegraping” vertaal behoort te word nie. ’n Benadering van hierdie aard sou egter nie ’n volle begrip vir die woord in die hand werk nie. Daar kan geen twyfel bestaan nie dat die werkwoordvorm van die woord duidelik die idee van ’n ruimtelike vertrek inhou, en dit word ook dikwels só in die LXX gebruik – selfs meer kere as wat dit gebruik word om die idee van afvalligheid of opstand uit te druk. ... Die naamwoord apostasia in die sin van ’n ruimtelike vertrek ... is ook in 2 Thessalonicense 2:3 so verstaan deur die vierde-eeuse vertaler, Jerome, wat he apostasia in Latyn vertaal het as discessio, wat vertrek beteken. Die sleutelbegrip hier is dat die woord nie inherent die betekenis van afvalligheid of opstand bevat nie. Dit neem slegs hierdie betekenisse aan na aanleiding van die konteks waarin dit gebruik word. ... Daar is twee belangrike kontekstuele faktore wat die verstaan van apostasia as die wegraping in die hand werk. Die eerste een is dat die wegraping van die kerk die basiese leerstellige standpunt is wat Paulus in 1 én 2 Thessalonicense ontwikkel het, en waarin hy poog om valse leringe te weerlê en weer aan die Thessalonicense hoop te gee. Die tweede faktor is die teenstellende parallel tussen apostasia en die mens van sonde in 2:3, en die teëhouer en die mens van sonde in verse 6 en 7.”

Die verband tussen die vertrek (apostasia) en die openbaring van die mens van sonde in 2 Thessalonicense 2:3, word in 2 Thessalonicense 2:6-7 bevestig waar die ruimtelike verwydering van die een wat nou teëhou, gevolg word deur die openbaring van die ongeregtige (die Antichris).

Gordon Lewis (1968:218, soos aangehaal deur House, 1995:269) sê: “Die naamwoord [vir apostasia] kan ook beteken om iets of iemand ruimtelik weg te neem. Daar is min rede om te ontken dat die naamwoord op so ’n ruimtelike vertrek of verwydering kan dui. Aangesien hierdie naamwoord net nog op een ander plek in die Nuwe Testament gebruik word om afvalligheid van die leer van Moses aan te dui (Hand. 21:21), kan ons nie op grond hiervan alleen beweer dat die betekenis daarvan finaal bepaal is nie. Die werkwoord word 15 keer in die Nuwe Testament gebruik. Van hierdie 15 het slegs drie iets te doen met afvalligheid van geloof (Lukas 8:13; 1 Tim. 4:1; Heb. 3:12). Die woord word gebruik vir die versaking van ongeregtigheid (2 Tim. 2:19), om jou van goddelose manne te onttrek (1 Tim. 6:5), om te vertrek van die tempel af (Luk. 2:37), van die liggaam af (2 Kor. 12:8), en van persone af (Hand. 12:10; Luk. 4:13).”

’n Ander geleerde wat die beskouing van die wegraping in 2 Thessalonicense 2:3 verdedig, is dr. Paul Feinberg (1995:297-311). In sy artikel verduidelik hy waarom ’n voorverdrukking-wegraping die beste inpas by die standpunte en probleme wat in hierdie belangrike gedeelte bespreek word.

In die Amplified Bible (NT, bl. 322) word die moontlikheid erken dat apostasia vertaal kan word as verwysend na die wegraping: “’n moontlike vertaling van apostasia is vertrek [van die kerk]”.

Die bepaling van betekenis

Die verskilpunt oor die term apostasia is hoofsaaklik semanties van aard, en het ontstaan oor die wyse waarop betekenis gegee is aan die Engelse weergawe van hierdie woord. Die naamwoord apostasy is van ’n kontekstuele gebruik van die Griekse apostasia afgelei deur slegs een van die verbande waarin die woord gebruik is te neem en na aanleiding daarvan die betekenis van die Engelse weergawe te bepaal, in plaas daarvan om net die grondbetekenis van die naamwoord self te vertaal. Engelssprekendes is natuurlik vry om ’n nuwe term te skep, maar dan kan hulle nie die aangepaste betekenis van die Engelse apostasy (afval van die waarheid, goddeloosheid of rebellie) as ’n ekwivalent vir die Griekse apostasia (vertrek) gebruik nie.

Dieselfde soort probleem het ontstaan toe hulle die Griekse woord martus (’n getuie) in Engels vertaal het. Die ervaring van die vroeë getuies van Christus as mense wat dikwels weens hulle geloof vervolg en doodgemaak is, is in ag geneem by die bepaling van die Engelse woord martyr se betekenis. Maar hierdie implikasie van om ’n getuie vir Christus te wees, is hoegenaamd nie deel van die Griekse woord martus nie, wat slegs beteken om ’n getuie te wees. As gevolg hiervan is daar nou inkonsekwentheid in die vertaling van hierdie woord. In Handelinge 22:20 en Openbaring 2:13 word martus in die KJV en die NKJV as martyr vertaal, maar in Handelinge 1:8, 22 en 22:15 word dieselfde woord bloot as witnesses vertaal. Ander Engelse vertalings (die NIV en RSV) verkies “witness” bo “martyr” in Openbaring 2:13, wat natuurlik meer korrek is. Niemand sal natuurlik ontken dat Antipas ’n martelaar vir sy geloof was nie, maar hierdie idee word hoegenaamd nie in die woord martus vervat nie – martelaarskap word elders in die sin verduidelik.

Waarom word dieselfde benadering nie ten opsigte van apostasia en afistemi gebruik nie? Indien die konteks duidelik gestel word, bv. “van die geloof afvallig word” (1 Tim. 4:1) of “van die lewende God afvallig word” (Heb. 3:12), dan is betekenisse van “afvalligheid”, “goddeloosheid” of “rebellie” in orde. Sulke kontekstualisering word egter nie in 2 Thessalonicense 2:3 gedoen nie, daarom sou “vertrek” of “wegvoering” in hierdie geval ’n beter vertaling gewees het. Die kontekstualisering van “vertrek” word in die voorafgaande twee verse gedoen, wat duidelik aandui dat Paulus verwys na die vertrek, ontvlugting of wegvoering van die kerk – “die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom”. Die dag van die Here het nog nie gekom nie, en dit staan vas dat Hy ons van die toekomstige toorn sal verlos.

Die afval van die laaste dae

Die feit dat die Bybel inderdaad groot afvalligheid vir die laaste dae profeteer, is een van die redes waarom die geforseerde eksegese van apostasia in 2 Thessalonicense 2:3 deur so min mense bevraagteken word. Baie gelowiges is geneig om bloot vir tekens van verval uit te kyk, eerder as om te besef dat die “vertrek” van die ware gelowiges, wat nie in sigself verval is nie, na die grootste goddeloosheid van alle tye op aarde sal lei. Die vertrek van die teëhouer sal die Antichris toelaat om geopenbaar te word en ongekende goddeloosheid en boosheid te weeg te bring. Nog voor die vertrek, sal misleiding en afvalligheid egter al grootliks toeneem.

Neem die volgende agt scenario’s in ag wat in die Bybel beskryf word oor afvalligheid in die laaste dae, waarvan net die laaste een verwys na die tyd van die verdrukking ná die vertrek van die kerk en die openbaring van die mens van sonde:

Toenemende misleiding wat deur bose geeste bevorder word: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars” (1 Tim. 4:1-2). Hoe meer mense onder die invloed van misleiding van die gesonde leer van die Bybel afwyk, hoe makliker word hulle die slagoffers van verleidende geeste.

Valse profete, tekens en wonders: Die Here Jesus het gesê: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! [die Gesalfde van God!] en hulle sal baie mense mislei. ... Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:4-5, 24). Baie van hierdie valse profete sal die godheid van Jesus Christus ontken, asook die groot betekenis van sy soendood verloën (vgl. 2 Pet. 2:1-2).

Die verwerping van die Bybel se boodskap, sodat daar aan moderne mense se geneigdheid tot positiewe denke gehoor gegee kan word: “... want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4). In die laaste dae sal daar ’n toename wees van valse leraars wat ’n boodskap verkondig wat sosiaal aanvaarbaar is, en dit sal hulle baie populêr maak. Die volgende is sommige van die fabels wat deur hulle verkondig word: God is ’n God van liefde wat niemand sal oordeel nie; daar is nie ’n duiwel of ’n hel nie en daar sal ook nie ’n Antichris of ’n groot verdrukking wees nie; gelowiges is nie bestem om vir hulle geloof te ly nie, omdat hulle die opdrag het om ’n koninkryk op aarde te vestig waarin hulle in groot rykdom moet lewe; en in terme van die leerstelling van universalisme word daar beweer dat alle mense op aarde gered sal word en hemel toe sal gaan, insluitend die volgelinge van die nie-Christelike gelowe.

Volgelinge van Mammon: Die laaste van die sewe gemeentes in Openbaring 2 en 3 is tipies van die eindtydse kerk, en hulle word aangespreek oor hulle geestelike bankrotskap wat deur die voorspoedsevangelie teweeggebring is: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:16-17). Hulle het die geldgod, Mammon, gedien en hy het hulle van die ware God af weggelei (Matt. 6:24; vgl. 1 Tim. 6:3-12).

Morele en geestelike verval: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Eindtydse gemeenskappe sal oor ’n breë front in ’n immorele lewenstyl verval, deurdat hulle moderne vorms van vermaaklikheid sal beoefen wat aangemoedig word deur massamedia soos die TV en Internet. As gevolg hiervan sal hulle kontak verloor met Jesus Christus en gevolglik verkoel in hulle liefde vir Hom. Sommige gemeentes sal hulle eerste liefde (Jesus Christus) verlaat en heeltemal vervreemd raak van Hom. Aan sulke gemeentes sê Hy: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Op. 2:4).

Selfliefde ten koste van liefde vir God: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5). Selfliefde en losbandigheid lei tot die verwerping van die Bybel se geestelike en morele standaarde, en daarom na ’n uiterlike gedaante van godsaligheid onder kerklidmate wat hierdie eindtydse gees van onbeperkte menslike vryhede ten prooi geval het, want dit maak die deur na sonde wyd oop.

Geestelike en morele polarisasie: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word” (Op. 22:11). Eindtydse samelewings sal geestelik en moreel in uiterste groepe wat totaal onversoenbaar is, polariseer. ’n Minderheid ware gelowiges sal hulleself geheel en al distansieer van die algemene neiging na wêreldgesindheid en humanistiese waardes.

’n Totale geestelike verduistering ná die wegvoering van die ware kerk: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want daardie dag [die dag van die Here, of die verdrukking] sal nie kom voordat die vertrek [van die ware kerk] eers plaasvind en die mens van sonde geopenbaar word nie, die seun van die verderf” (2 Thess. 2:3; geparafraseer). ’n Verval na boosheid en goddeloosheid wat veel groter sal wees as die verval wat sal voorkom in die laaste dae voor die wegraping, sal plaasvind nadat die ware kerk, wat ’n tempel van die Heilige Gees is, in ’n oogwink van die aarde af weggeneem is. Totale geestelike duisternis sal heers nadat die lig van die wêreld en die sout van die aarde (vgl. Matt. 5:13-14; Fil. 2:15) skielik weggeneem is. Gedurende hierdie tyd sal feitlik die hele wêreld die Antichris navolg en hom openlik as Messias en God aanbid (Op. 13:3-4, 8). Hulle sal sy nommer aanvaar, waardeur hulle deel sal word van sy nuwe wêreldorde met sy politieke, godsdienstige en ekonomiese instellings (Op. 13:16-18). Hierdie misleides sal egter ’n baie duur prys van ewige verderf betaal vir die gevolge van hulle aanvaarding van Satan se valse messias wat aanvanklik soos ’n engel van die lig sal verskyn (2 Kor. 11:14-15; Op. 14:9-11).

In die lig van die profesieë oor die dag van die Here wat in die eindtyd letterlik vervul sal word, het ons alle rede om aan te hou waak en bid sodat ons al hierdie dinge wat kom, kan ontvlug om in die Here Jesus se heerlike teenwoordigheid te wees (Luk. 21:36). Dit is ’n bemoedigende gedagte dat daar vir ons ’n “vertrek” (apostasia) sal wees voordat die mens van sonde geopenbaar word. Die Here Jesus sal hierdie misleier deur die verskyning van sy wederkoms verdelg wanneer Hy sewe jaar later, aan die einde van die verdrukking, as Koning van die konings terugkom na die aarde om sy vyande te verdelg en sy eie koninkryk in heerlikheid te openbaar (2 Thess. 2:8; Sag. 14:4-5; Op. 19:11-16).

’n Duidelike teken

’n Finale argument ten gunste van die vertaling van apostasia in 2 Thessalonicense 2:3 as “vertrek” is die feit dat Paulus ’n baie spesifieke en klaarblyklike rede gegee het waarom die Thessalonicense nog in die dag van die Here (die verdrukking) was nie. Hy het herhaal dat “die dag van Christus” nie voor die “vertrek” sou aanbreek nie. Daardeur het hy bloot die voorverdrukking-wegraping bevestig. Indien hy slegs ’n geestelike “afval” bedoel het (die Engelse “apostasy”) sou hy ’n baie vae en debateerbare stelling gemaak het, en dit was beslis nie sy bedoeling nie.

Afvalligheid is ’n lang proses wat deel van die hele kerkbedeling uitmaak, want dit het al reeds in die vroeë gemeentes bestaan (vgl. Hand. 20:29-30). Ons weet dat afvalligheid in die eindtyd sal toeneem, maar selfs hierdie kennis help ons nie om ’n streep te kan trek en aan te toon waar dit begin het nie. Die werklike groot en ongekende afvalligheid wat in 2 Thessalonicense 2:3 beskryf word (die opkoms van die mens van sonde, asook die ontheiliging van die tempel wanneer die Antichris homself tot God sal verklaar) sal eers ná die apostasia van 2 Thessalonicense 2:3 plaasvind, en die direkte gevolg van die fisiese verwydering van die liggaam van Christus van die aarde af wees. Die teëhouer moet eers uit die weg geruim word voordat die mens van sonde geopenbaar kan word en die geleentheid sal kry om sy uiterste godslastering en sataniese tekens en wonders te beoefen.

Verwysings

Constable, Thomas L., 1983 : 2 Thessalonians, bl. 713-725. In: Walvoord, John F. & Zuck, Roy B. (reds.). “The Bible Knowledge Commentary: New Testament”. Victor Books.

Feinberg, Paul D., 1995 : 2 Thessalonians 2 and the Rapture, bl. 297-311. In: Ice, T. & Demy, T. (reds.). “When the Trumpet Sounds”. Eugene, Oregon: Harvest House Publishers.

House, H. Wayne, 1995 : Apostasia in 2 Thessalonians 2:3: Apostasy or Rapture?, bl. 261-296. In: Ice, T. & Demy, T., (reds.). “When the Trumpet Sounds”. Eugene, Oregon: Harvest House Publishers.

Lewis, Gordon L., 1968 : Biblical Evidence for Pretribulationalism. Bibliotheca Sacra, Vol. 125. No. 499, bl. 218.

Walvoord, John F., 1995 : 1 Thessalonians 4: A Central Rapture Passage, bl. 251-259. In: Ice, T. & Demy, T., (reds.). “When the Trumpet Sounds”. Eugene, Oregon: Harvest House Publishers.