Print

Palestynisme en die Kairos Dokument

Written by Prof Johan Malan.

In die harte en denke van baie mense is ᾿n groot verandering besig om pos te vat ten gunste van die geestelike en staatkundige aansprake van Palestyne in tradisionele Joodse gebiede. Hulle word nou deur sommiges as die oorspronklike inwoners en ook die godsdienstige erfgename van die Beloofde Land gesien – en dit alles ten koste van Israel.

In sy artikel Christian Palestinianism noem Thomas Ice hierdie groot geestelike en ideologiese gevaar waardeur Israel bedreig word, “Christelike Palestynisme”. Hierdie liberale teologiese denkrigting is ᾿n teenvoeter vir Christelike Sionisme, wat daarop ingestel is om Israel se regte uit die Bybel te beklemtoon en hulle vir die volle herstel van Israel in ᾿n onverdeelde land te beywer. Christelike Palestynisme propageer ᾿n antichiliastiese en anti-Joodse teologie waarin die herstelde Israel geen rol speel nie, en die Palestyne as die regmatige eienaars van die hele Palestina beskou word. Dit beteken in die praktyk dat daar volgens hulle geen staat van Israel moet wees wat met die regte van die Palestyne kan inmeng nie. Hierdie politieke bevrydingsteologie vir die Palestyne geniet ook in die sekulêre wêreld groot steun.

Baie van die Palestynse Christene het dié polities-georiënteerde en anti-Israelse bevrydingsteologie aanvaar en verkondig dit ter wille van hulle nasionale voortbestaan. Dit is sterk anti-dispensasioneel en erken nie ᾿n toekomstige Messiaanse staat vir Israel nie, maar streef na ᾿n alternatiewe koninkryk hier en nou. ’n Groot aantal Palestynse Christene lees nie eers die Ou Testament nie, weens die sentrale rol wat Israel gedurende die dispensasie van die wet gespeel het. Sommige van hulle lees daaruit, maar slegs selektief. Hulle erken geen verband tussen Bybelse Israel, die huidige Jode en die moderne staat van Israel nie.

Daar is ᾿n baie groot gevaar verbonde aan Palestynisme in die teologie. ᾿n Egiptiese skrywer, Bat Ye’or, het in haar boek, Eurabia, wat oor die Islamisering van Europa handel, ᾿n hoofstuk ingesluit wat oor die Islamisering van die Christendom handel. Volgens haar baan Palestynisme die weg na die Islamisering van die kerk. Dit is ᾿n vorm van vervangingsteologie waarin Israel deur die Palestyne vervang word. In die proses word die vier Evangelies van hulle Joodse verband losgemaak en aan die Palestyne gekoppel om die Nuwe Testament vir Islam meer aanvaarbaar te maak. Daar word van Jesus ᾿n Palestynse Verlosser gemaak.

’n Britse Jodin, Melanie Phillips, het in 2006 ᾿n boek getiteld Londonistan gepubliseer, waarin sy die Engelse waarsku dat Islam besig is om hulle land en kultuur oor te neem, hoofsaaklik omdat die kerk begin het om pro-Islamities en in stryd met die historiese Christendom te raak. Sy beskryf die opkoms van Palestynisme só: “Toe Arabiese Christene begin het om die Bybel te herinterpreteer sodat die Jode nie ᾿n geldige aanspraak op die land Israel moet hê nie, het dit in die Anglikaanse Kerk tot die vervangingsteologie aanleiding gegee. Hulle het toe besluit dat die Palestyne die oorspronklike bewoners van die land Israel is, en dat hulle die ware ‘Israel’ is.”

In hierdie nuwe vorm van vervangingsteologie word Israel nie net deur die kerk vervang nie, maar spesifiek ook deur Palestynse Christene. In die proses word die Bybel van baie van sy basiese uitsprake oor Israel beroof en geleidelik in terme van die Koran geherinterpreteer. Donald Wagner (Dying in the Land of Promise: Palestine and Palestinian Christianity from Pentecost to 2000; Londen, 2003) beweer verkeerdelik dat omtrent die helfte van die bevolking van Israel in die tyd van Jesus nie Jode was nie, en op grond hiervan maak hy die aanname dat Arabiese Christene die biologiese afstammelinge van die vroeë kerk van Handelinge 2 in Jerusalem is. Die kerkvader Eusebius bevestig egter in sy boek oor die kerkgeskiedenis dat die vroeë kerk feitlik 100% Joods was (Ecclesiastical History, Londen, 1926. Vertaal deur Kirsopp Lake).

Hank Hanegraaff van die Christian Research Institute het ook dispensasionalisme en die herstel van Israel verwerp en verkondig nou Palestynisme. Hy beskuldig Israel dat hulle die etniese uitwissing van die Palestyne beoog, en beskryf ondersteuners van Israel as rassiste. Dit is egter duidelik dat die Bybel die fisiese én geestelike herstel van Israel in hulle eie land leer. Persone wat hierteen beswaar maak, open die deur na die vervangingsteologie en die toenemende aanvaarding van Islamitiese standpunte.

Christelike kerke sal moet besluit of hulle die Bybel letterlik glo. Indien wel, is hulle daartoe verbind om Israel te aanvaar as ᾿n volk in eie reg, aan wie alleen die belofte gemaak is om die hele land van Israel vir altyd te bewoon. Hulle ongeloof het wél na die Diaspora gelei, maar die Here bring hulle nou terug om hulle ook geestelik te herstel en ᾿n seën vir die hele wêreld te maak (Rom. 11:1-32).

Israel se toekoms is nie in die hande van die ortodokse Jode wat steeds die Messias verwerp nie, maar in die hande van die Messiaanse Jode wat vir Jesus as Messias aanvaar het en dien. Hoewel hulle ᾿n klein minderheidsgroep is, voorspel die Bybel groot en wonderlike dinge vir hulle. Ons moet hulle ondersteun sodat hulle getuienis aan ongeredde Israeli’s duidelik en ondubbelsinnig sal uitgaan. Volgens die Bybel sal die hele oorblyfsel van Israel uiteindelik vir Jesus as Messias aanneem. Moenie jouself by die vyande van Israel skaar nie, want volgens Génesis 12:3 rus die oordele van die Here op sulke mense.

Die Palestynse Kairos dokument

Die nuwe Suid-Afrika het in verskeie opsigte vir die Palestyne ’n model geword vir politieke bevryding uit die mag van ᾿n selektiewe groep oorheersers. In Suid-Afrika is daar in 1994 ’n radikale oorgang gemaak van ’n multi-etniese bedeling af na ’n geïntegreerde meerderheidsregering waarin daar geen regte van selfbeskikking aan die vroeëre oorheersers verleen word nie. Die Palestyne begeer ook ’n oorgang in hulle land waarin die Joodse regering alle mag sal verloor en uiteindelik van die toneel af sal verdwyn.

Dit is opvallend dat geestelike leiers in Suid-Afrika teologies die weg gebaan het na ’n totale en ongekwalifiseerde oorgawe aan die intimiderende eise van die meerderheid. Onder die invloed van ’n polities-gedrewe bevrydingsteologie het leidende predikers en teoloë van verskillende kerke die rug gekeer op die Bybelse beginsel van die selfbeskikkingsreg van volke in hulle eie woongebiede (vgl. Hand. 17:26), en in stryd daarmee het hulle die idee van ’n nie-etniese meerderheidsregering aanvaar.

In 1985 het ’n ekumeniese groep predikers, verskeie van hulle uit Soweto afkomstig, ’n Kairos-dokument aanvaar waarin afsonderlike ontwikkeling tot sonde verklaar is en ’n geïntegreerde politieke bestel vir SA bepleit word (“kairos” beteken “’n spesiale oomblik”, of “die oomblik van waarheid”). Palestynse Christene het hierdie voorbeeld gevolg en op 11 Desember 2009 die “Kairos Palestine Document” uitgereik waarin hulle ’n oproep op Christene oral in die wêreld doen om die ideaal van Palestynse bevryding te ondersteun. In die dokument sê hulle onder meer: “The injustice against the Palestinian people which is the Israeli occupation, is an evil that must be resisted. It is an evil and a sin that must be resisted and removed.”

Op 31 Maart 2010 het ’n ekumeniese groep Christene en Moslems in Suid-Afrika op die Palestynse Kairos dokument gereageer en volle solidariteit met hulle betoon. Hulle het ook die vervangingsteologie onderskryf waarin Israel se Bybelse posisie en regte aan die Palestyne toegeskryf word. In hulle brief sê hulle onder meer:

“Our dear Palestinian brothers and sisters ... Thank you for the document written by you, the descendants of Abraham, Isaac and Jacob, the descendants of Jesus Christ and whose ancestors were the first to receive his message. Yours is a proud history of keeping the faith in the Holy Land, and we salute you for doing that despite the most difficult situation into which you have been placed. From our perspective, we can see how you are being pressurized and forced out of your own land, and we urge you to continue to resist that with love, and to continue to show what our Lord Jesus Christ taught us.”

Kairos Suid-Afrika staan ook ’n soortgelyke oorskakeling in Palestina voor, waarin geen regte aan Israel gewaarborg word nie en in werklikheid geen toekoms aan hulle gebied word nie. Hulle het op 4 April 2011 die volgende persvrystelling gedoen as Suid-Afrika se bydrae tot die doelstellings van Christelike Palestynisme:

Kairos Southern Africa’s response to Palestine Kairos: The Palestine Kairos document was launched in South Africa on Monday evening 4 April 2011, at a meeting of Kairos Southern Africa in Bredell near Johannesburg. The document is called: A moment of truth – A word of faith, hope and love from the heart of the Palestinian suffering.

The notion of a Palestine Kairos Document was inspired by the South African Kairos Document as a Christian testimony of faith during the dark and last days of apartheid. Palestinian lay people, theologians and church leaders came together to express a testimony of faith in relation to their experience under the occupation of Palestine by Israel.

In response to the message of the Palestine Kairos document, Christians from South Africa and countries in Southern Africa gathering at the conference decided to state the following:

We fully honour this faith commitment and courageous witness as expressed by Christian brothers and sisters in Palestine. This testimony of faith, hope and love is a profound expression of Christian faith under circumstances of gross injustice.

We feel seriously challenged by the Palestinian witness of faith in general as well as by their Kairos document and consequently we:

  • Affirm with the Palestinians that the core of the ‘conflict’ between Israel and Palestine is the occupation of Palestine by Israel. We affirm with them that the occupation of Palestine is a fundamental evil to be resisted as an obligation of faith. Moreover, we also consider the Christian theological justification of this occupation based on Zionism as a heresy. We have to deal with our own complicity towards putting the credibility and integrity of the Christian gospel at stake in the Holy Lands. We will have to challenge our own reading of the Bible in lending support to the death and destruction in Palestine today.
  • Consider the Zionist ideology as racist. Furthermore we consider the State of Israel to be an apartheid state. For South Africans, the similarities between the situation faced by Palestinians and the situation faced by us under apartheid are clear, striking and extremely painful.
  • Accept our complicity to the injustices suffered by Palestinians albeit through widespread ignorance, silence and apathy in our society.
  • Will challenge our society, government, political parties, business community, civil society, and indeed the churches and the Christian community in general about their complicity regarding this.
  • Stand in solidarity with Palestinians in their commitments towards non-violent resistance against the occupation. We support the call towards boycotts, divestments and sanctions (BDS) against the Israeli government.
  • Promote an ethical code of conduct about pilgrimages and other tours to the Holy Lands. We are concerned that, as things stand now, such tours obscure the present-day realities in Palestine under the Israeli occupation.

Just as the white community in general and supporters of South African apartheid locally and abroad were challenged to change, we also challenge the conscience of all who support the Israeli occupation of Palestine. This change is possible.

Whilst we reject the racially exclusive solution of Zionism to the holy land, we pray for an inclusive and just peace where the dignity and equality of all inhabitants are upheld.

Rev. Moss Nthla, Chairperson: on behalf of Kairos Southern Africa.”

Die opkoms van Chrislam

’n Ander onlangse ontwikkeling waardeur Christelike Palestynisme ook bevorder word, is Chrislam wat die ekumeniese versoening tussen die Christendom en Islam voorstaan. Dit is ’n poging om die Christendom en Islam in ’n wêreldwye mega-godsdiens te verenig. Op een van hulle webblaaie (www.chrislam.org/) word hierdie beweging se ekumeniese benadering soos volg geformuleer: “Ons is broeders. Ons is die familie van God. In sy oë is nie een van ons beter as die ander nie.” Volgens hulle is die twee groot monoteïstiese gelowe nou verwant aan mekaar en behoort hande te vat.

Die Chrislam-beweging het dryfkrag gekry deur die uitsprake van vooraanstaande teoloë en politici, wat beweer dat Christene en Moslems dieselfde God aanbid en ook dieselfde Jesus dien. In sy boek, A brief illustrated guide to understanding Islam (bl. 57), sê I.A. Ibrahim: “Die Moslems respekteer en eer vir Jesus (vrede vir hom). Hulle beskou hom as een van die grootste gesante van God na die mensdom.”

In die Koran is Jesus egter nie die eniggebore Seun van God nie, en ook nie die Messias wat deur God gestuur is om weer die troon van Dawid te herstel nie. Hy word inteendeel gesien as ’n profeet wat deur Allah aangestel is om die mensdom op die koms van Mohammed voor te berei. Islam ontken ook die soendood van Jesus. Ibrahim (ibid., bl. 58) sê: “Moslems glo dat Jesus nie gekruisig is nie. Jesus se vyande het beplan om hom te kruisig, maar God het hom daarvan bewaar ... .” Islam verkondig duidelik ’n ander Jesus wat vreemd is aan die goddelike openbarings van die Bybel.

Chrislam het totaal gefaal in sy pogings om gemeenskaplike grond tussen die Christendom en Islam te vind. Die Islamitiese begrip van ’n enkelvoudige Skeppergod wat nie ’n Seun het nie, kan nie versoen word met die Christelike konsep van die Drie-enige God nie. Daar is ook geen korrelasie tussen Islam se Jesus wat die ongekruisigde seun van Maria is, en die Christelike geloof in die gekruisigde en opgestane Seun van God wat self ook God is nie.

Die groot eindstryd

Daar is goeie redes waarom die Israeli/Palestynse konflik ᾿n prominente plek op die wêreldverhoog inneem. Gebeure wat met die opkomende nuwe wêreldorde in verband staan, fokus baie sterk op Palestina, Israel, en meer spesifiek die stad Jerusalem. Ten spyte van die feit dat die Palestyne nie histories belangrik is en ook nie etnies ᾿n duidelik omskrewe en hegte volk is nie, bevind hulle hulself in dié gebied waar die toekoms van die wêreld bepaal gaan word. Hulle eise vir nasieskap word deur revolusionêre magte gebruik om invloed te verkry in die land en stad wat deur God bestem is om die middelpunt van die Messias se wêreldregering te wees.

Die magsopbou wat tans in die wêreld aan die gang is, gaan in die afsienbare toekoms na ’n antichristelike nuwe wêreldorde lei waarin Israel se grondgebied verder gaan krimp totdat hierdie land deur ondergang in die gesig gestaar sal word. Jerusalem sal waarskynlik onder internasionale beheer kom en ’n multigodsdienstige karakter aanneem. Liberale, ekumeniesgesinde Jode sal met die valse messias saamwerk om hierdie transformasie te laat slaag. Die uiteinde hiervan sal ’n ten volle ontplooide wêreldregering en alliansie van wêreldgodsdienste onder die beheer van die Antichris wees.

Eers wanneer die ware Messias kom, sal ’n Christelike nuwe wêreldorde ingestel word met Jerusalem as hoofstad. Die grense van Israel sal dan aansienlik uitgebrei word, terwyl die kunsmatig geskepte Palestynse staat sal ophou bestaan. Sy inwoners sal of as “vreemdelinge” in Israel aanbly of terugkeer na die lande van hulle herkoms, naamlik Egipte, Jordanië, Libanon, Saoedi-Arabië en Sirië.