Print

Groot Rampe vir 2012 Voorspel: Hoe Wesenlik is die Gevaar?

Written by Prof Johan Malan.

Uit verskeie bronne is daar vreesaanjaende verwagtings geskep oor ongekende natuurrampe en apokaliptiese oordele wat die aarde in 2011 sou tref. Daar het egter niks gebeur nie! Nou is ons in 2012 en vir hierdie jaar is daar selfs nog meer doemprofesieë uitgespreek oor die uitwissing of byna-uitwissing van alle lewe op aarde.

Wat 2011 betref, was daar die voorspellings van Harold Camping van Family Radio in Kalifornië, dat die wegraping van gelowiges op 21 Mei 2011 sou plaasvind, gevolg deur vyf maande van goddelike oordele waarin byna alle lewe op aarde uitgewis sou word. Op 21 Oktober 2011 sou die tyd van oordele verby wees. Camping het ’n boek, The Doomsday Code, hieroor geskryf.

Hierbenewens was daar die kalender van ’n Indiaanse stam, die Asteke (Aztecs) van Mexiko, waarvolgens alle lewe op aarde op 24 Desember 2011 tot ’n einde sou kom. Soos vele ander mitologiese teorieë oor die oorsprong en lotgevalle van die mens, het hierdie teorie ook geen logiese substansie gehad wat dit enigsins geloofwaardig gemaak het nie.

Hollywood-films ry ook, soos te verwagte, al hoe meer op die golf van sensasionele doemprofesieë. Dit is veral die Maja-kalender (ook ’n Indiaanse stam) wat op 21 of 23 Desember 2012 ophou, waaraan baie aandag gegee word. Na verwagting sal die aarde op een van dié twee dae deur ’n komeet getref word wat alle lewe sal uitwis.

Webblaaie soos www.2012danger.com bou op hierdie tema voort, en noem die moontlikheid dat ’n nuwe ystydperk ná so ’n ramp op aarde kan aanbreek, soortgelyk aan die een wat na bewering die skielike einde van oerdiere soos die dinosourusse veroorsaak het. Geen mense sal hierdie ramp kan oorleef nie.

’n Profesie deur Nostradamus verwys ook na ’n komeet wat in Desember 2012 die aarde sal tref en grootskaalse verwoesting sal saai: www.december2012endofworld.com/nostradamus-2012.

Benewens die profesieë deur Nostradamus en die Indiaanse stamme, is daar verskeie mense wat verwag dat Planeet X (Nibiru) die aarde vroeg in 2012 sal tref, met die potensiaal om alle lewe uit te wis. Ten spyte van alle pogings deur NASA wetenskaplikes en astrobioloë om die teorie oor Nibiru (Die Vernietiger) te weerlê, is daar steeds duisende mense wat dit huldig. Meer inligting hieroor word aangebied op die webblad http://astrobiology.nasa.gov/ask-an-astrobiologist waarop gesê word: Ask an Astrobiologist has received more than 5000 questions about Nibiru and Doomsday 2012, with more than 400 answers posted.” Nog meer inligting kan oor hierdie valse teorie verkry word deur bloot die woord “Nibiru” te Google.

Bybelse profesieë

Hoe moet daar sin gemaak word uit al die ontstellende en verwarrende aansprake oor die toekoms?

Vir Christene is daar net een betroubare bron van profetiese inligting, en dit is die Bybel. Daar is egter nie eenstemmigheid oor hoe profesieë vertolk moet word nie. Sommige teoloë vergeestelik alle profesieë oor die toekoms (veral die boek Openbaring) deur dit simbolies en allegories te verklaar, en dus nie as letterlike moontlikhede te beskou nie. Ander verklaar die profesieë histories (preteristies) deur te beweer dat al die rampe wat met die groot verdrukking in verband staan, in die eerste eeu vervul is tydens die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine.

Gelukkig is daar ook diegene wat Bybelse profesieë letterlik verklaar volgens die histories-grammatiese grondreël: “If the plain sense of the Word makes common sense, then seek no other sense” (Dwight Pentecost). Daar is wel simbole en beeldspraak in die profetiese woord, maar daar is ook talle letterlike uitsprake wat net so op sigwaarde aanvaar moet word.

Uit ’n objektiewe studie van Bybelse profesieë is dit duidelik dat verreweg die meeste daarvan futuristies vertolk moet word omdat hulle betrekking het op die tydperk direk voor, gedurende, en ná die wederkoms van Christus. In die lig van profesieë wat reeds tot in die fynste detail letterlik vervul is, het ons alle rede om te aanvaar dat eindtydse profesieë net so letterlik vervul sal word.

Die profetiese rede

In Jesus Christus se profetiese rede val die soeklig op twee kritieke tydperke in die kerkbedeling, naamlik die begin en die einde daarvan. Aan die begin van hierdie tyd, wat direk op die Here Jesus se eerste koms gevolg het, is Jerusalem en die tempel verwoes en Israel uit hulle land verstrooi omdat hulle die Messias verwerp het (Luk. 19:41-44; 21:20-24).

Hierna het die tye van die nie-Joodse nasies gevolg, waarin die hele wêreld geëvangeliseer moes word (Mark. 16:15; Rom. 11:25). Gedurende hierdie tyd sou Israel in ’n verstrooide toestand onder die nasies wees en hulle stad, Jerusalem, in ’n vertrapte toestand: “... en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).

Aan die einde van die tyd van wêreldevangelisasie sal Israel en Jerusalem egter herstel word, terwyl die toneel vir die wederkoms van Christus reggeskuif word. Wanneer Hy terugkom sal Hy sy voete op die Olyfberg in Jerusalem neersit (Sag. 14:4-5), en dan moet Israel in hulle land terug wees. By daardie geleentheid sal hulle “opsien na Hom vir wie hulle deurboor het ... en bitterlik oor Hom ween” (Sag. 12:10).

Die verandering in Jerusalem se status is vir ons ’n duidelike aanduiding dat die kerkbedeling na sy einde spoed. In 1948 met die onafhanklikheid van moderne Israel, het hulle net beheer oor die nuwe, westelike deel van Jerusalem gehad. In 1967 het Israel ook die ou deel van die stad (Bybelse Jerusalem) van Jordaniese beheer bevry. In 1980 is Jerusalem weer tot die hoofstad van Israel verklaar en het die eerste minister, Menachem Begin, sy kantoor van Tel Aviv af na Jerusalem verskuif.

’n Belangrike periode in Israel se eindtydse herstel sal die kort en beslissende “tyd van benoudheid vir Jakob” wees (Jer. 30:7). Daniël 9:27 verwys daarna as ’n jaarweek, wat ’n tydperk van sewe jaar is. In die Nuwe Testament word dié tyd as die “verdrukking” en ook as die “groot verdrukking” beskryf (Matt. 24:21, 29; Op. 7:14). Dit sal oor sewe profetiese jare van 360 dae elk strek, wat onderverdeel word in twee helftes van 3½ jaar elk, m.a.w. 42 maande of 1 260 dae elk (Op. 11:3; 12:6, 14; 13:5).

Daar kan na die hele sewe jaar as “die verdrukking” verwys word, maar net na die laaste 3½ jaar daarvan as die “groot verdrukking”. Christus het na die middel van die verdrukking verwys wanneer die herboude tempel in Jerusalem deur die Antichris ontheilig sal word, en bygevoeg: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21).

In sy profetiese rede het Jesus Christus meer besonderhede oor die komende tyd van groot verdrukking gegee. Hy het gesê dit sal ’n tyd van oorloë en gerugte van oorloë wees, asook hongersnode, pessiektes en aardbewings (Matt. 24:6-7). Hy het daarop gewys dat hierdie tyd van groot benoudheid direk voor sy wederkoms sal plaasvind:

“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid” (Luk. 21:25-27).

Hierdie dramatiese profesieë sluit aan by ’n groot aantal Ou Testamentiese profesieë oor die dag van die Here, wat ’n tyd van ongekende oordele oor die goddeloses sal wees (vgl. Jes. 13:9-13; 24:1-23; Joël 2:11, 31).

Ons moet egter daarop let dat die komende sewe jaar van verdrukking nie met groot oordele begin nie, maar met die openbaring van die Antichris gedurende ’n tyd van groot geestelike misleiding (Matt. 24:4-5, 11, 24). Hy sal tydens ’n dreigende oorlog teen Israel as ’n valse vredevors op die toneel verskyn. Daarna sal hy ’n sewe-jaarlange verbond met Israel en die nasies sluit (Dan. 9:27).

Openbaring

In Openbaring word die scenario van die laaste sewe jaar voor Christus se sigbare wederkoms in al sy skrikwekkende detail beskryf. Benewens die militêre skrikbewind van die Antichris, wat deur Johannes as die “dier” beskryf word, sal daar in dié tyd ook 21 oordele van die Here oor ’n ongeredde wêreld uitgestort word. Dit word as sewe seëls, sewe basuine en die sewe laaste plae beskryf, en beslaan die grootste deel van hierdie profetiese boek (Op. 6 tot 19).

Uit Openbaring 6:2 is dit duidelik dat die Antichris as die ruiter op ’n wit vredesperd op die wêreldtoneel sal verskyn. Hy sal ’n wêreldregering instel, asook ’n alliansie van wêreldgodsdienste en ’n wêreldekonomie, waarvan hy self die hoof sal wees. Hy sal dus finale gestalte gee aan die doelstellings van globalisme, of wêreldeenheid.

Volgens Openbaring 13 sal hy ’n onbetwiste politieke leier wees: “... aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Die hele wêreld sal verwonderd agter hom aangaan en hom ook aanbid (Op. 13:3-4, 8). Saam met sy mederegeerder, die valse profeet, sal hy die wêreldekonomie beheer en aan elke mens ’n nommer gee (Op. 13:16-18).

Daar sal egter mettertyd opstande teen sy bewind ontstaan, en dit sal hom aanspoor om ’n meer absolute magsposisie te verkry en sy besluite militêr op alle mense af te dwing. Dit sal die begin van die tweede helfte van die verdrukking wees, naamlik die groot verdrukking. Hy sal beslis ook na aanleiding van Bybelse profesieë weet dat die ware Christus aan die einde van daardie jaarweek sal terugkeer om die antichristelike stelsel en al sy ondersteuners te vernietig. As gevolg hiervan sal hy met behulp van demone ’n multinasionale mag op die been bring om teen die ware Christus te veg (Op. 16:13-16). Dit sal na die veelbesproke slag van Armagéddon lei:

“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Op. 19:19-20).

Die Here sal terselfdertyd geweldige oordele oor al sy vyande uitstort. Goot aardbewings sal voorkom, en weens lugbesoedeling sal die son swart word soos ’n harige sak en die maan soos bloed. Brokstukke van hemelliggame sal die aarde tref, en mense sal van verwoeste dorpe en stede af na die berge vlug (Op. 6:12-17; 16:1-21).

Daar is in verskeie lande (veral Amerika, maar ook in Suid-Afrika) mense wat nou al uitwyk na ontvlugtingsplekke in die berge of in die eensame platteland, waar hulle onder meer medisyne, gedehidreerde voedsel en water opgaar. Hulle hoop om op hierdie manier die rampe van die dag van die Here te kan oorleef.

Die wegraping

’n Duidelike Bybelse beginsel wat van die begin van die menslike geskiedenis af op aarde gegeld het, en nou nog geld, is dat die Here nooit die gelowiges saam met die ongelowiges oordeel nie (vgl. Gen. 18:23). Dit het nie gedurende die sondvloed gebeur nie, ook nie tydens die verdelging van Sodom en Gomorra nie, en dit sal ook nie tydens die komende verdrukking van sewe jaar gebeur nie. Christene word wel deur ’n bose wêreld verdruk en vervolg as gevolg van hulle geloof, maar dit is nie die Here wat hulle oordeel nie. Die komende verdrukking sal ’n tyd van die uitgiet van goddelike toorn wees, daarom moet alle gelowiges vooraf uit die rampgebied van goddelike oordele verwyder word. Ons het ’n duidelike belofte hieroor:

“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36; vgl. Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-17).

Christus kom eers soos ’n dief in die nag om sy bruid ongesiens en in die geheim te kom haal, voordat Hy sewe jaar later in die openbaar sal kom om sy vyande te oordeel, die oorblyfsel van Israel te red en sy koninkryk op aarde te vestig.

Op die Bybel se profetiese kalender lê daar vir die wêreld nou eerste die wegvoering van die ware Christene voor, wat direk na die eerste opstanding sal gebeur (1 Thess. 4:13-18). Daarna sal die openbaring van die Antichris plaasvind en ’n tydperk van valse vrede vir 3½ jaar lank verloop, en dan eers sal die 3½ jaar van die geweldige rampe en oordele van groot verdrukking volg.

Buite-Bybelse profesieë

Valse, buite-Bybelse profete verkondig nie die waarheid nie, want God openbaar Homself aan ons deur sy Woord. Selfs Christene wat daarop aanspraak maak dat hulle inligting oor die toekoms gekry het wat die Bybel aanvul, is valse profete wat God se oordele oor hulleself bring. In die laaste hoofstuk van die Bybel is daar ’n ernstige waarskuwing aan persone wat by die Bybel probeer byvoeg, asook diegene wat daarvan probeer wegneem (Op. 22:18-19).

Wanneer bestaande buite-Bybelse profesieë oor 2012 met die Bybel vergelyk word, dop hulle almal die toets. Die wêreld sal beslis nie in 2012 vergaan nie, maar eers aan die einde van Christus se vrederyk, meer as ’n duisend jaar van nou af (Op. 20:7-15).

Daar sal egter wel in die afsienbare toekoms, tydens die komende verdrukking, groot rampe op aarde plaasvind, maar dit is eers vir die tweede helfte van die verdrukking bestem en kan dus nie in 2012 al ’n aanvang neem nie. Rampe van ’n kleiner omvang kan wel plaasvind, maar dit sal nie deel wees van die Here se oordele soos beskryf word in Openbaring nie.

Wat die eindtyd betref, was die Here Jesus se heel eerste waarskuwing: “Pas op dat niemand julle mislei nie” (Matt. 24:4). Ons moet in hierdie tyd veral op misleiding bedag wees, omdat die internasionale opkoms van politieke, godsdienstige en ekonomiese globalisme die toneel vir die verskyning van die Antichris voorberei. Ons leef in ’n wêreld waarin politieke leiers nie in staat is om ’n veilige toekoms aan hulle volgelinge te bied nie, terwyl Christelike fondamente in die opmars na multigodsdienstige denke toenemend besig is om te val.

Dit is ook op ekonomiese gebied duidelik dat ’n ernstige skuldlas in die meeste ontwikkelde lande, asook verbrokkelende geldstelsels, die weg na ’n nuwe ekonomiese orde baan. Dit alles spel net een boodskap uit: ons is in die tyd van die groot afval voordat “die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3-4).

Hierdie verderflike persoon sal in die Midde-Ooste opstaan en onder andere as “Assur” of “die Assiriër” bekend staan (Jes. 10:12-14, 20-25), wat daarop dui dat die ou Assiriese en Babiloniese Ryke (die huidige Sirië en Irak) in die eindtyd weer na prominensie sal herleef. Hier, vanuit die Midde-Ooste, sal die opkomende nuwe wêreldorde beheer word.

Verwikkelinge op die terrein van die nuwe ideologie van globalisme moet voorrang in Christene se profetiese denke inneem, want die gees van die Antichris is die gees van rebellie van die ware Christus. Almal wat besig is om die ware Christus se beeld af te breek deur sy maagdelike geboorte en godheid, asook die betekenis van sy kruisdood en die werklikheid van sy opstanding, hemelvaart en wederkoms te ontken, en tegelykertyd alle gelowe gelykstel, is aktief besig om as wegbereiders vir die valse christus van die nuwe wêreldorde op te tree.

Indien ons doeltreffende teëhouers van die Antichris wil wees (vgl. 2 Thess. 2:6-8), moet ons die huidige proses van godsdienstige, politieke en ekonomiese verval in die wêreld kan raaksien, asook die koninkryk van die duisternis se misleidende globalisasie-strategie waardeur dit ’n doelgerigte poging aanwend om die wêreld oor te neem en die evangeliese Christendom, asook die volk Israel, verder in diskrediet te bring en uiteindelik finaal uit te roei.

Ten einde die aandag van hierdie bose doelstellings af te trek, word daar allerhande valse gerugte versprei oor vernietigende rampe wat die aarde binnekort gaan tref, en op grond daarvan word die mensdom aangemoedig om hulle politieke en godsdienstige verskille ter syde te stel en eerder ter wille van hulle oorlewing saam te werk.

Die Utopia wat die antichristelike nuwe wêreldorde voorhou, verskil weinig van dit wat historiese diktators soos Hitler, Lenin en Stalin aanvanklik aan hulle volgelinge gebied het, maar die uiteinde daarvan sal ’n veel erger diktatuur as dié van Nazisme en Kommunisme wees. Die bose magsmonstering wat nou binne die raamwerk van eenheidsdenke plaasvind, gaan na die grootste verdrukking lei wat die wêreld nog beleef het.

Andrew Murray 32