Print

Die Verbondsvolk Israel: Wie is Hulle?

Written by Prof Johan Malan.

Maniere van Skrifverklaring

Daar is baie verskillende maniere waarop die Bybel verklaar of vertolk word (in teologiese taal staan dit as eksegese bekend) om by mense se eie, vooropgestelde idees aan te pas. Sommige van hierdie verklarings is subjektief, met ‘n sterk politieke ondertoon, en is daarop ingestel om die Bybel en kerk polities aanvaarbaar te maak. In hierdie gevalle wissel die manier van Skrifverklaring saam met die politieke klimaat in ‘n land of volk.

In Suid-Afrika was daar in die apartheidsjare bv. verskillende kerke wat die konsep van afsonderlike ontwikkeling teologies geregverdig en ook die Bybel so verklaar het. Hulle het Bybelse gronde vir die idee van verskillende kerke vir verskillende volke, rasse en taalgroepe gevind. Toe die politieke klimaat egter in die tagtiger- en vroeë negentigerjare radikaal verander het, het baie van hierdie kerke saam met dit verander. Toe het hulle skielik geen regverdiging meer in die Bybel vir ‘n volksingesteldheid op kerklike gebied gekry nie en afsonderlikheid, of apartheid, tot ‘n sonde verklaar.

In reaksie hierop het daar kerke en godsdienstige groepe ontstaan wat hulleself van die polities-georiënteerde teologiese liberalisme gedistansieer en hulleself by duidelike identiteitsbewegings geskaar het. Sommige het hulle samehorigheid binne volksverband gevind en dit ook kerklik uitgeleef, byvoorbeeld as Boere-Afrikaners. Ander het egter veel verder gegaan en by ‘n sogenaamde “Bybelse identiteitsbeweging” aangesluit deur hulleself “Israeliete” te noem. Hieruit is die Israelvisie gebore, wat ‘n gewysigde voortsetting van die Brits-Israelse denkrigting is.

Dit is van die allergrootste belang dat elke persoon wat die Christelike geloof bely, sal vasstel presies hoe die Bybel vertolk moet word, en wat sy of haar identiteit en roeping as Christen in die samelewing is. Om duidelikheid hieroor te kry, moet ons net eers vasstel wat die einddoel met polities-georiënteerde vertolkings van die Bybel is.

In godsdienstige liberalisme word die Bybelse feit heeltemal ontken dat die Here grense tussen volke gestel het. ‘n Teks soos die volgende word óf geïgnoreer óf heeltemal verdraai: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Hand. 17:26). Hierdie “grense” het tog baie belangrike implikasies – nie net volkekundig en staatkundig nie, maar ook taalkundig en godsdienstig. Die evangelie moet aan elke groep in sy eie taal- en kultuurverband verkondig word, omdat dit benewens die redding van individue ook daarop ingestel is om gesins- en volksinstellings te verchristelik, te onderskraag en te versterk.

Die teologiese liberalis ontken grense van hierdie aard omdat hy besig is om aan ‘n internasionale, geïntegreerde, nie-rassige, nie-seksistiese samelewing te bou, waarin daar uiteindelik ook beweer sal word dat alle godsdienste dieselfde God aanbid. Hy beroep homself graag op tekste soos die volgende: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus” (Gal. 3:28). Hierdie teks word dan verdraai deur dit sosio-polities te verklaar en te beweer dat volksgrense verval, sosiale stande uitgewis en dat geslagsverskille tussen mans en vrouens nie in ag geneem moet word nie. Alles kan dus saamvloei en een word, wat beteken dat homoseksuele verhoudings ook in orde is.

Hierdie teks het duidelik net op geestelike gelykwaardigheid betrekking. Wanneer dit by redding kom, gee die Here nie aan ‘n Jood voorkeur bo ‘n Griek, aan ‘n ryke bo ‘n arme, of aan ‘n man bo ‘n vrou nie. In samelewingsverband geld al hierdie verskille egter nog steeds: Paulus identifiseer homself baie duidelik as ‘n Israeliet of Jood (Rom. 11:1; Hand. 22:3); diensknegte word tot gehoorsaamheid aan hul here aangemoedig (Ef. 6:5); en die man se posisie as die hoof van die vrou word ondubbelsinnig bevestig (Ef. 5:22-23).

Die ernstige Christen kan homself hoegenaamd nie met die liberale teoloë se wyse van Skrifverklaring vereenselwig nie – nie net omdat dit op politieke of humanistiese aanvaarbaarheid ingestel is nie, maar ook omdat dit op ‘n skewe en krom verklaring van die Skrif gebaseer is.

Aan die ander kant van die spektrum is daar egter ook ‘n regse, polities-georiënteerde vorm van eksegese wat as die grondslag vir ‘n valse identiteitsbeweging gebruik word. Hierdie mense volstaan nie by hulle Bybelse volksbewustheid nie, maar eis ook die identiteit van die volk Israel vir hulleself op. Om dit te kan doen, moet hulle die Jode tot ‘n bastergeslag verklaar ten einde hulle identiteit as “Israel” te kan oorneem. In hulle vervangingsteologie gaan hulle dan nog verder en verklaar dat net die blanke volke van die wêreld die stamme van Israel is met wie alleen die Here ‘n verbond gesluit het. Die gekleurde volke word as onredbare heidene beskou. Hierdie beweging staan as Blanke Israelisme, Wit Teologie en ook die Brits-Israelse Beweging bekend.

Die vraag wat in hierdie boekie beantwoord sal word, is wie die verbondsvolk, Israel, regtig is. Die algemene skrifverklaring van die Israelvisie sal ondersoek word sodat die foutiewe aannames daarvan duidelik sal blyk. Daar is baie verskillende splintergroepe in hierdie beweging, maar daar is tóg ‘n aantal sentrale gedagtes wat deur almal van hulle gedeel word.

Oorsig van die beweging se dogma

Volgens die Israelvisie se siening is God se uitverkiesing, sy verbonde en genadewerk tot Israel alleen beperk. Op grond hiervan klassifiseer Israelvisiegroepe die mensdom geneties in twee groepe – die kinders van God en die kinders van die duiwel. Let wel, dit is nie ‘n geestelike klassifikasie soos wat die Bybel tussen verlore en geredde mense onder alle volke onderskei nie, maar ‘n biologiese klassifikasie. ‘n Persoon moet ‘n fisiese afstammeling van Israel as die verbondsvolk wees om ‘n erfgenaam van God se beloftes te kan wees, want sy verbond is net met Abraham en sy nageslag deur Isak en Jakob as ‘n ewige verbond gesluit. Alle ander nasies word tot ‘n permanent verdorwe heidendom verdoem waarop die toorn van die Here rus.

Hierdie twee groepe word as ‘n finale en onveranderlike verdeling beskou. Wanneer verbastering tussen die kinders van God en die kinders van die duiwel plaasvind, word hulle en hulle nasate na bewering almal deur die Here verwerp: “Geen baster mag in die vergadering van die Here kom nie; selfs nie sy tiende geslag nie…” (Deut. 23:2).

Vyandskap

Hierdie biologiese klassifikasie word na Genesis 3:15 herlei waar die Here vir die slang gesê het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.” Dié mense redeneer dat net soos wat daar engele was wat met vroue gemeenskap gehad het en die reuse daaruit gebore is (Gen. 6:4), die duiwel ook met sekere vroue gemeenskap gehad het. Sy saad het in hulle uitgebroei en op dié wyse is daar ‘n geslag van duiwelse mense gebore wat onredbaar is omdat hulle van die duiwel afstam.

Omdat die Here vyandskap tussen sý kinders en die kinders van die duiwel gestel het, word dit as verkeerd beskou om die geslag van bose mense geestelik te probeer bearbei. Dit is soos om jou pêrels voor die varke te gooi – hulle sal dit onder hulle pote vertrap en dan omdraai en jou verskeur. Volgens die Israelvisie het die Here verklaar dat alle heidene, mans, vrouens en kinders, uitgewis moet word omdat hulle die saad van die slang in hulle omdra en dus vyande van Hom is. Soos die varke van Gadara is selfs hulle diere ook duiwelbesete daarom moet dié ook met die banvloek getref word.

Stamvaders

Die geslag van duiwelskinders het verskeie stamvaders wat deur die Israelvisie geïdentifiseer is. Kain word as die eerste gekleurde mens en rebel teen GodHereHH beskou wat deur die saad van die slang verwek is. Hierdie afleiding word van Eva se verduideliking gemaak waarom sy van die verbode vrug geëet het: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet” (Gen. 3:13). Daar word aangevoer dat die woord bedrieg (Hebreeus nasha) mislei of verlei beteken, en op die seksuele verleiding van Eva deur die duiwel dui. Sy het egter duidelik gesê dat die slang haar mislei het om aan God ongehoorsaam te wees deur van die verbode vrug te eet. In elk geval staan daar in Génesis 4:1: “En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar.”

‘n Ander sataniese stamvader volgens dié siening was Gam. Uit hom het die Kanaänitiese of geel volke deur sy seun Kanaän afgestam, asook die Kusitiese of swart volke deur sy seun Kus (Gen. 10:6). Een van Kus se seuns was Nimrod wat ‘n geweldenaar en rebel teen God was. Hy het die stad Babel gebou en ook die grondslag vir ‘n heidense godsdiensstelsel gelê wat vandag nog nagevolg word en in heftige opposisie teen die enigste ware godsdiens is.

Daar is ook sommige groepe wat nog verder gaan en sê dat die swartes glad nie mense is nie, maar duiwelbesete diere van die veld wat nie siele het nie. Hulle het glo saam met die ander diere die vloed in Noag se ark oorleef. Hulle absolute vyandigheid teen die blanke mense van God, en veral teen die sendelinge wat hulle probeer bearbei, word aan hulle dierlike en duiwelse karakter toegeskryf wat nie verander kan word nie.

Twee ander stamvaders wat ‘n prominente rol in hierdie diaboliese familiekring vervul, is die wilde Ismael en die harige en rooierige Esau uit wie die ontembare Arabiese volke afstam. Volgens Génesis 36:2-3 het Esau met Kanaänitiese vroue getrou, wat nasate van Gam was. Om dié rede word Esau se afstammelinge, soos die Amalekiete en Edomiete, as fanatiese vyande van God beskou wat van hulle vader én moeder se kant af van die saad van die slang deurdronge is. Teen hierdie agtergrond word verklaar waarom daar van Esau se bose kleinseun, Amalek, gesê word: “Oorlog het die Here teen Amalek van geslag tot geslag” (Ex. 17:16).

Die hele eindtydse konfliksituasie waarin die wêreld nou is, word tot ‘n groot mate na die stryd tussen Jakob en Esau herlei. Dit het alles begin deurdat daar na bewering twee sade in Rebekka se baarmoeder was – die een is deur Isak en die ander glo deur Satan bevrug. Esau was, en is steeds, deur sy afstammelinge die groot vyand van Israel. Uit dié groep sal ook die Antichris voortkom. Die vermenging tussen Edomiete en afvallige Jode speel volgens hierdie beweging ‘n groot rol in die antichristelike magsmonstering, omdat die Edomitiese Jode volgens hulle ook ‘n slang-nasie is.

Israel en Juda

‘n Gebeurtenis waarop die Israelvisie ‘n groot deel van sy teorie bou, is die historiese verdeling tussen die noordelike tienstammeryk van Israel, en die suidelike ryk van Juda en Benjamin wat ná Salomo se bewind plaasgevind het. Hulle sien dit as ‘n permanente verdeling wat ingetree het, en wat dwarsdeur die Nuwe Testamentiese bedeling tot vandag toe nog geld. Aan Israel word al die beloftes en seëninge van die Here toegeskryf, terwyl die grootste deel van Juda en Benjamin na bewering met die afstammelinge van Esau vermeng geraak het en as ‘n bastergeslag by al die ander vyande van God gereken moet word. Na hierdie mense van gemengde bloed word net as Jode verwys en nooit as Israeliete nie.

Die begrip Israel word uitgebrei om in die huidige tyd al die blanke nasies van die Weste in te sluit, vandaar die begrippe Blanke-Israelisme en Wit teologie. Daar word beweer dat die sg. tien verlore stamme van Israel wat in 721 v.C. deur Assirië as ballinge weggevoer is, na Wes-Europa en die Britse Eilande getrek het. Hulle nasate sluit al die blanke volke van vandag in. Hulle word skerp van die Jode onderskei, daarom sê hierdie beweging ook: “Daar kan of mag nooit van die volk Israel as Jode gepraat word nie.”

Met die Babiloniese ballingskap tussen 597 en 581 v.C. het Juda sy koninklike troon in Jerusalem verloor en is dit glo na Engeland oorgedra waar dit deur die Britse vorstehuis voortgesit is. Brittanje het hierna vir die Brits-Israelse Beweging die verbondsland (Berit-ain) geword, n.a.v. die Hebreeuse term berit (verbond). Hulle meen verder ook dat Saxons van Isaacsons afgelei is, dus is die Anglo-Saksiese volke die Engelssprekende seuns van Isak! Tevergeefse moeite word gedoen om ook ander Engelse woorde te probeer kry wat as bewyse kan dien dat Engels uit Hebreeus ontwikkel het.

Juda en Esau

Ná die Babiloniese ballingskap het Juda en Benjamin na hulle land teruggekeer, en die verwysing na hulle in Esra en Nehemia as Jode moet volgens dié beweging eintlik Judeërs wees. In die jaar 125 v.C. het Juda teen Edom (die nageslag van Esau) oorlog gevoer, hulle oorwin, en volgens die Israelvisie het daar ‘n totale vermenging en verbastering tussen Edom en Juda plaasgevind. Hulle sê dat die term Jood op hierdie bastergeslag van Edomitiese Jode betrekking het. Met geringe uitsonderings van ‘n aantal suiwer Judeërs wat nie vermeng geraak het nie, word die Jode nou by die saad van die slang en die vyande van God gereken. Die skrifgeleerdes en Fariseërs in Jesus se tyd was glo hoofsaaklik uit hierdie groep afkomstig, daarom het Jesus vir hulle gesê: “Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?” (Matt. 23: 33); en ook by ‘n ander geleentheid: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen” (Joh. 8:44).

In hierdie teorie word selfs die begrip wedergeboorte in Johannes 3 anders vertolk. Daar word geredeneer dat dit beteken om van bo gebore te wees, m.a.w. van God. As jy ‘n kind van God uit een van die tien stamme van Israel is, is jou afkoms reg en is jy outomaties ‘n erfgenaam van die koninkryk van die hemele. As jy nie van bo gebore is nie en aan een van die baie volke en rasse behoort wat deel van Satan se koninkryk uitmaak, kan jy nie gered word nie en sal nooit die koninkryk van God beërf nie.

Dit is teen hierdie agtergrond dat hulle dikwels na Jesus se opdrag verwys: “Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel” (Matt. 10:5-6). Die verlore skape van die huis van Israel word as die blanke volke van Europa geïnterpreteer, vir wie die evangelie eintlik bedoel is. Die blankes van Suid-Afrika is Europeërs van oorsprong, en word dus ook by die Israeliete ingereken vir wie die evangelie bestem is.

Die Khazar Jode

Die sogenaamde verbasterde Jode in Israel wat vir Christus verwerp en gekruisig het, het volgens hierdie denkrigting deur die eeue heen hulle stryd teen die koninkryk van die hemele voortgesit. Ná die val van Jerusalem in 70 n.C. het hulle uitgewyk en noord van die Swartsee gaan vestig. Hier was hulle as die Russiese Jode bekend.

In die 8ste eeu het die Turkse Khazars hulle tot Judaïsme bekeer en met die Russiese Jode vermeng geraak. Hulle het daarna as die Khazar Jode bekend gestaan. Daar word beweer dat 90% van die Jode wat tans in Israel en in die Weste is, afstammelinge van die woeste Khazar stamme is wat eeue lank oor die steppe van Rusland geswerf het. Hulle het nie alleen beheer oor Rusland verkry nie, maar is ook vir die kommunisme en ander antichristelike ideologieë verantwoordelik. Deur die Illuminati, die Vrymesselaars en die georganiseerde geldmag buit hulle die ander lande ekonomies uit, ondermyn hulle polities en probeer om die hele wêreld in hulle mag te kry.

Volgens Esegiël 38 en 39 sal die Joods-beheerde Rusland (aldus die Israelvisie) saam met Kus (die swart nasies), asook Turkye, Libië en Persië wat as die afstammelinge van Ismael en Esau ook slang-nasies is, ‘n aanval op Israel (die Westerse nasies) doen. Die Protestantse Weste is dus in ‘n titaniese stryd teen die bose bondgenootskap tussen Esau, Ismael, die Khazar Jode en die gekleurde hordes van die wêreld gewikkel.

Baie moeite word deur Israelvisiegroepe gedoen om aan hulle lede te vertel wie hulle werklike vyande is, nl. die Jode en die gekleurde nasies. Hulle beweer dat dit die verbasterde Khazar Jode is wat nou na Israel terugkeer, saam met ‘n groep donker Askenazim Jode wat Mongoolse bloed in hulle are het. Die klein groepie suiwer Judeërs wat volgens dié teorie oorgebly het, is die Sefardiese Jode wat baie min invloed in Israel het.

Die haat teenoor die Jode as ‘n sogenaamde verbasterde geslag mense wat aanhoudend die Israelvolke aanval, uitbuit en ondermyn, is só sterk dat verskeie Israelvisie-groepe groot bewondering vir tiranne soos Hitler het wat miljoene Jode op ‘n grusame wyse laat doodmaak het. Vir baie van hulle is die Jode openbare vyand nommer een, en word hulle kwaai veroordeel.

Die groot komplot

Die Khazar Jode word as die leidende groep gesien wat in ‘n komplot gewikkel is om die eersgeboortereg van Jakob te steel en vir Esau in te palm. Hulle hou hulleself aan die Christelike kerk in die Weste as die uitverkore volk voor om sodoende erkenning en steun te verkry. Hulle doen hulleself voor as afstammelinge van al twaalf die stamme, en sodoende word die verbasterde volk op wie God se toorn en banvloek na bewering rus, tot die status van bondsvolk verhef. Hulle einddoel is om die wêreldheerskappy te verkry wat in die nageslag van Jakob aan die Messias toegesê is. Dit is die rede waarom hulle Jesus Christus haat en Hy vandag nog steeds nie in Israel welkom is nie. Die stryd tussen God (via Jakob) en Satan (via Esau) gaan dus nog steeds voort. Christus sal Homself egter op dié hartelose en eeue-oue vyande van Israel wreek, daarom sê Jesaja dat die Here Jesus se kleed by sy wederkoms rooi van die bloed van Edom sal wees (Jes. 63:1-6).

Die blanke Westerlinge word deur hierdie beweging bemoedig dat alhoewel die stryd vorentoe teen die vyande van God nog baie hewiger gaan word, die oorwinning verseker is. Die Bybel sê daar kom ‘n tyd van benoudheid vir Jakob, maar hy sal daaruit verlos word. Protestantse Europa (die Israel van God) leef in die skadu van ‘n dreigende Russies-Arabiese offensief (die aanslag van Esau), terwyl ons hier in Suid-Afrika aan die vyandelikhede en venyn van Gam se swart nageslag blootgestel is. Hulle werk ook ten nouste met die Russiese Khazar Jode saam as ‘n surrogaatmag vir die bevordering van kommunisme. Ons moet net ontwaak tot die bewussyn van ons ware identiteit as volk van God, en tot die gehoorsaming van Ou Testamentiese opdragte oor wat om met hierdie vyande te doen. Hoewel sekere ekstremistiese groepe geweld in dié verband regverdig, bied die groot meerderheid van hulle net passiewe weerstand en wag dat die Here sal ingryp en met hulle vyande handel.

Openbarings van God deur profete

Verskeie Israelvisiegroepe plaas hulleself in ‘n Ou Testamentiese bedeling waarin God op verskillende tye openbarings deur middel van profete aan sy volk gemaak het. Hulle aanvaar nie die feit dat die Bybel klaar geskryf is en dat dit die volle raad van God vir die mens bevat nie. As gevolg hiervan is hulle vir goed-klinkende buite-Bybelse profesieë deur selfaangestelde profete oop.

Een van die profete wat in ‘n stadium wyd deur baie groepe aangehang is, is Siener Van Rensburg. Hy het duidelik ‘n vorm van vervangingsteologie beoefen toe hy sy eie drome en gesigte verklaar het. Siener het die Boerevolk in die plek van Israel gestel, en na aanleiding daarvan profesieë wat op Israel betrekking het, op die Boerevolk van toepassing gemaak. Volgens die Bybel sal Israel én ander nasies onder die mag van die Antichris kom en 42 maande lank kwaai deur hom verdruk word (Dan. 9:27; Op. 13:5-7). Hierna sal die Antichris se mag gebreek word.

Siener het in die lig hiervan beweer dat die Boerevolk 42 maande lank onder die dwingelandy van ‘n antichristelike swart regering sal staan, maar dat hulle ná 42 maande van dié regering se oorheersing bevry sal word. Dit het by baie mense die verwagting geskep dat die ANC-regering in 1998 tot ‘n val sou kom. Volgens ander profesieë van Siener sou die bevryding teen die draai van die millennium kom, m.a.w. rondom die jaar 2000. Daar sou ‘n nag van terreur wees waarin die Boere in opstand sou kom en deur die Here se hulp die juk van vreemde oorheersing sou afwerp.

Profesieë van hierdie aard is deur sekere Israelvisie- én ander regse groepe aangegryp, en planne is gemaak om die regering onder meer deur terreurdade tot ‘n val te bring. Nie alle Israelvisiegroepe het hierdie strategie ondersteun nie, maar het nogtans die hoop gekoester dat daar deur goddelike ingryping bevryding sou kom. Dit het nie gebeur nie, en hierdie verwagting wat deur ‘n buite-Bybelse profeet geskep is, was grootliks daarvoor verantwoordelik dat talle Boeremaglede in die gevangenis beland het.

Hoewel Siener se profesieë sedertdien baie van hulle geloofwaardigheid verloor het, is daar steeds Israelvisiegroepe wat al hulle geloof op sulke buite-Bybelse profesieë plaas. In Mei 2004 het Dirk van Vuuren van die Dogter van Sion ‘n boodskap aan Nelson Mandela, die regering en die media gerig waarin hy profesieë aanhaal van God se oordele wat oor Suid-Afrika uitgestort sal word indien die Boeremaglede nie uit die tronk vrygelaat word nie. Direkte woorde van Jahweh word aangehaal, soos na bewering aan sy profetes, Linda Newkirk, die sg. “White Buffalo Calf Woman,” geopenbaar. Hierin eis Jahweh dat sy volk, Israel, soos van ouds in Egipte, deur die moderne Farao vrygelaat sal word – anders sal Hy groot oordele oor die regering en sy mense uitstort.

Israel teenoor die nuwe wêreldorde

Die volk van God, Israel (die blanke nasies) word as die enigste gelowige en behoudende groep mense op aarde teenoor die identiteitlose wêreldsamelewing van die Antichris se komende ryk op aarde gestel. Israel word opgeroep om hulle teen die moderne liberalisme te verset, wat besig is om die weg na ‘n nuwe wêreldorde met sy verdorwe, humanistiese en sataniese inslag te baan. Die Israelvisie sien hulleself as die enigste ware manifestasie van die volk van God in ‘n heidense wêreld vol afgodsdienaars en kompromiemakers. Kerke wat die Joodse staat in Israel erken, asook alle kerke wat hulleself oopstel en sendingwerk onder anderskleuriges doen, word as meelopers van die Antichris bestempel. Hulle werk tot hul eie ondergang met die vyande van God saam.

Uitsprake deur Israelvisiegroepe

In die onseker en gevaarlike wêreld waarin ons leef, soek baie mense na ‘n nuwe sin vir waardes en identiteit, asook ‘n verklaring vir die aanslae teen die blankes in Suid-Afrika en die donker toekoms wat dit skep. As gevolg hiervan verkry die Israelvisie aansienlike openbare ondersteuning. Sommige van die groepe is meer radikaal in hulle siening as ander. Hieronder is ‘n oorsig van beskouings wat deur verskeie groepe in Suid-Afrika gehuldig word:

Volksverhuisings na Wes-Europa

As gevolg van ‘n gebrek aan bewyse oor die volksverhuisings van die Assiriese en latere Babiloniese ballinge na Wes-Europa en Engeland, wend die Israelvisie hulle tot verskeie teorieë in hierdie verband. Ds. F.J. Pelser sê in sy boekie, “Die blanke – sy herkoms, identiteit en lotsbestemming,” dat die Israelse en Judese ballinge deur ‘n sterk oostewind na Wes-Europa gedryf is. As ‘n bewys hiervoor noem hy Jesaja 27:8 wat na ‘n geweldige oostewind verwys. Die ballinge het in stamverband voor hierdie sterk wind uitgetrek, en die volgende vestigingsplekke word deur ds. Pelser geïdentifiseer (slaan die betrokke teksverwysings na en kyk hoe totaal buite verband dit aangehaal en toegepas word):

·         Sebulon (Holland) het by die strand gaan woon en die see uitgesuig om grond te kry (Gen. 49:13; Deut. 33:18-19). Sebulon verval in Rooms-Katolisisme omdat hy sy siel gering geag het.

·         Efraim (Engeland) het die steen van Israel, wat die klip is waarop Jakob geslaap het [aldus ds. Pelser], saam met hulle geneem (Gen. 49:24). Die troon van Dawid is in Brittanje opgerig, en daar sal nooit ‘n opvolger vir dié troon ontbreek nie (1 Kon. 9:5).

·         Manasse (VSA) sal vet grond kry [die Mississippi-vallei] en baie koring produseer. Nasies sal ook voor hom moet buig (Gen. 27:28-29; Deut. 33: 13-17).

·         Aser (Frankryk) sal sy eie olie besit (Deut. 33:24), ryk kos eet (Gen. 49: 20), baie hawens besit (Rig. 5:17) en rustig woon.

·         Dan (Denemarke) sal soos ‘n slang wees wat ‘n sleepsel nalaat (Gen. 49:17). Hierdie sleepsel kan in die name Dundee, Danhauser en Dunkirk gesien word.

·         Naftali (België) sal vir sy prosa en digkuns bekend wees (Gen. 49:21). Sebulon en Naftali [Holland en België] lê bymekaar (Matt. 4:13).

·         Benjamin (Zimbabwe en Zambië) sal vir wildsvleis lief wees (Gen. 49:27). Hulle sal later “Jerusalem” genoem word (Rig. 1:21), en in ‘n stadium moet vlug (Jer. 6:1).

·         Juda (Suid-Afrika) sal in die suide by die “tong” [skiereiland] woon (Jos. 15:1-2). Hulle sal edelwyne produseer (Gen. 49:11). Dit sal die jongste dogtervolk van Sion wees (Gen. 49:9; Klaagl. 2:13). Sy vorste was wit maar sal swart word (Klaagl. 4:7-8). Teen die tyd van die einde sal die mag van die “heilige” [apartheids-] volk verbreek word in die Anglo Boere-oorlog (Dan. 12:7). Manasse [Amerika] en Efraim [Engeland] sal vir Juda [Suid-Afrika] onderdruk (Jes. 9:20).

Verstrooide Israeliete in Suid-Afrika

‘n Sterk plaaslike toepassing word van die Israel-beweging gemaak deurdat verskeie groepe hulle op die profesieë beroep wat verwys na die land “oorkant die riviere van Kus” (Jes. 18:1-7; Sef. 3). “Kus” dui op swart Afrika. Volgens die profeet Jesaja word die inwoners van dié land [Suid-Afrika] “almal saam oorgegee aan die roofvoëls van die berge en aan die wilde diere van die aarde; en die roofvoëls sal daarop die somer deurbring, en al die wilde diere van die aarde sal daarop oorwinter” (Jes. 18:6).

Ds. G.J. Steenkamp van die Gemeente van die Verbondsvolk sê in sy boekie, “Antwoorde op Bybelse probleembegrippe,” die volgende oor dié teks:

“Hierdie volk word oorgegee aan die roofvoëls – die geld- en wêreldmagte. Hoe moet ons beleef dat die wêreldheersers ons ons vryheid en regte ontneem! In die somertyd is die roofvoëls bedrywig, d.w.s. in die ryk en vol tyd sal hulle oor ons wees. Hierdie volk word ook oorgegee aan die diere van die aarde. Wie anders is dit as die swartes en uit hulle gebasterdes? En let op: in die wintertyd, in die swaar tyd, nou, sal die wilde diere hulle deel doen. Wat beleef ons nou? Die swartes kry grond, huise, regeermag, noem maar op.”

Ds. Steenkamp glo egter dat “die oorblyfsel van Israel uit Suid-Afrika” (Sef. 3:13) die eindtydse aanslag teen hom sal oorleef en na die Here sal terugkeer. Daar is ander Israelvisiegroepe wat Suid-Afrika die verbondsland van God se volk noem, en Tafelberg as die berg Sion beskou.

Geen basters in Israel nie

‘n Sleutelteks wat gereeld deur Israelvisie-groepe aangehaal word, is die volgende: “Geen baster mag in die vergadering van die Here kom nie; selfs sy tiende geslag mag in die vergadering van die Here nie kom nie” (Deut. 23:2). Die definisie vir ‘n baster word geformuleer as: “Bloedvermenging tussen ‘n Israeliet en ‘n nie-Israeliet.” Na aanleiding hiervan word daar ‘n terugwerkende suiweringsveldtog onderneem om Israel van alle moontlike blootstellings aan vreemde bloed in die verlede te vrywaar, want daar kan nie aanvaar word dat Israel ook dalk die bloed van slangnasies in hulle het nie:

·         Die ‘onthulling’ word gemaak dat Sippóra, die dogter van Jetro, met wie Moses getrou het, nie ‘n Kusitiese vrou was nie (Num. 12:1), maar in werklikheid uit die huwelik tussen Abraham en Ketura gebore is.

·         Rut was ook nie ‘n Moabiet nie, maar ‘n Judese meisie. Sy is slegs ‘n Moabiet genoem as gevolg van die land waarin sy gewoon het. Studiegroep Aktueel wy ‘n hele artikel, “Rut – Moabiet of Israeliet?,” aan dié onderwerp.

·         Van die hofdienaar van Ethiopië sê ds. Steenkamp: “Die man van Ethiopië, wat nou in die nuwe Afrikaanse Bybel ‘die Ethiopiër’ genoem word, kan ook niemand anders wees as ‘n verstrooide Israeliet nie.” Twee van die redes wat hy noem, is die volgende: “(1) Hy lees die Hebreeuse taal uit ‘n boekrol – wat hy waar in die hande kry? En wie het hom Hebreeus geleer? (2) Hy en Fillipus verstaan mekaar, en binne ‘n paar kilometers verstaan hy die Skrif. Dit is tog bewys dat ‘n swarte jare neem om iets van die evangelie te verstaan, en wat my betref kan die swarte nooit verstaan nie.”

Addergeslag

In sy boekie, “Die twee sade op aarde,” sê pastoor F.W.C. Neser van Vereeniging dat Jesus nooit sleg van ander mense gepraat het nie, daarom moet daar ‘n goeie rede wees waarom Hy die Jode en Fariseërs slange en addergeslag genoem het (Matt. 23:33). Jesus het ook aan hulle gesê: “Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het” (Matt. 23:31). Die woord “kinders” dui vir past. Neser nie op geestelike kinders nie, maar op biologiese kinders. Hy sê dat die slang (Satan) vir Eva verlei en met haar gemeenskap gehad het, en dat Kain daaruit gebore is. Kain is dus die vader van ‘n biologiese geslag van duiwelskinders wat “slange” en ‘n “addergeslag” genoem word, en wat gevolglik nie gered kan word nie.

Edomiete en Egiptenaars

Die volgende teks verskaf aan die Israelvisie groot hoofbrekens omdat dit hulle dogma grondliggend weerlê:

“Die Edomiet moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want jy was ‘n vreemdeling in sy land. Kinders wat vir hulle in die derde geslag gebore word, mag in die vergadering van die Here kom” (Deut. 23:7-8).

Ds. Steenkamp voel verplig om hierdie gedeelte as verkeerd te beskou en gevolglik te verwerp:

“Die onmoontlike van die bestaande teks is dat dit bots met die res van die Skrif. Jahweh is onveranderlik, konsekwent. Hy sal nie die een oomblik dít sê en die volgende oomblik iets anders bedoel nie. Die Egiptenare was vyande, en uit dié slawehuis is Israel uitgelei. Die Edomiete word genoem ‘n volk op wie God vertoorn is tot in ewigheid (Mal. 1:1-4). Ek sou ook graag wou weet hoe en waar die derde geslag bepaal kon word in die praktyk van die lewe. En as die derde geslag dan kon inkom, waarom dan nie die tweede of die eerste nie? Nee, dié teksgedeelte het geen sin nie. Moses het die Egiptenare ook nie as sy naaste behandel nie (Ex. 2:12-13). Ons het hier met ‘n foutiewe teks te doen.”

Israel, Egipte en Assirië

Jesaja sê die volgende oor die Messiasryk: “In dié dag sal daar ‘n grootpad wees van Egipte na Assirië… En Egipte sal saam met Assirië die Here dien. In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ‘n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:23-25). Volgens ds. Steenkamp dui die “hom” wat deur die Here geseën word “nie verskillende groepe nasies aan nie, maar kan slegs op een, nl. Israel, wys. Die geskiedenis is ook heel duidelik dat Israel as bannelinge in Assirië was en as vlugtelinge in Egipte.”

Die Israelvisie het hier ‘n groot probleem, want as daar Israeliete is wat met Arabiere van Assirië en Egipte vermeng geraak het (Ismael en Esau se nageslag), hoe kan die Here hulle dan nog volgens die Israelvisie se teorie as mense van gemengde bloed in die vrederyk seën?

Die oorblyfsel van die mense

“…sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:17).

Ds. Steenkamp sê dat dié teks in Handelinge ‘n doelbewuste poging is om die Nuwe Testament te verander deur Israel – oor wie dit gaan – uit te wis en die heidennasies in te bring. Oor die beeld van die rein en onrein diere waarvan Petrus moes slag en eet (Hand. 10:11-16), sê hy dat die onrein diere nie op ander nasies dui nie, maar op die onbesnede Israeliete. In dieselfde verband sê hy dat Lukas 2:14 só vertaal moet word: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde in die mense (Israel) van sy welbehae.”

Israel besoedel homself

“Israel is verslind; alreeds is hulle onder die volke soos iets wat waardeloos is. Want hulle het opgetrek na Assur – ‘n wilde-esel wat eiesinnig rondloop, is Efraim! – hulle het onwettige bondgenootskappe gewerf” (Hos. 8:8-9).

Ten einde vers 9 by sy dogma te laat aanpas, verander ds. Steenkamp dit só: “Want hulle het opgetrek na Assur – ‘n wilde esel hou homself apart (eenkant) maar Efraim gee liefdesgeskenke.” Sy kommentaar hierop is: “Ons sien dat Hosea hier sê dat Efraim dommer is as ‘n wilde esel wat sy apartheid handhaaf. Om te vermeng, gee Efraim liefdesgeskenke aan die heidene.

Jood en Griek

“Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus” (Gal. 3:28).

Ds. Steenkamp verklaar hierdie teks só: “Daar is nie verskil by Jahweh as dit kom by die taal, sosiale stand of geslag van sy volk nie. Maak tog die teks reg: ‘Dit maak nie saak of jy ‘n Judees- of Griekssprekende, slaaf of vryman, man of vrou is nie, want julle is almal een (gelyk) in die Messias, Jashua’. Let op vers 29: ‘En behorende aan die Messias is julle die (biologiese) nageslag van Abraham, en volgens die belofte erfgename’.” Grieke en alle ander nasies kan dus nie gered word nie – net Griekssprekende lede van die verbondsvolk, omdat hulle van Abraham afstam. Dit geld ook Judeërs en Israeliete wat enige ander taal praat en hulle as verstrooides elders in die wêreld bevind.

Diere van die veld

In ‘n inligtingstuk, “Adamiet of…,” wat deur die Yahzerah Bybelstudiegroep saamgestel is, word die eerste artikel, getiteld, “Bestaan dié diere nog?,” uit Die Kerkbode van 17 Junie 1981 aangehaal. Die afleiding word gemaak dat daar in die Bybel na die swartmense as die diere van die veld verwys word. Aan die einde van die artikel word hierdie “dier” só beskryf:

“Opsommenderwys is hierdie ‘n merkwaardige dier. Hy word die wilde dier van die aarde genoem en word onderskei van vee en viervoetige diere van die aarde (Gen. 1:24-25). Gevolglik is dit ‘n dier met twee bene, dit eet gesaaides, olywe en druiwe, dus kos wat die mense eet (Ex. 23:11). God straf hierdie dier met swere wat in blare uitbreek (Ex. 9:9). ‘n Man en ‘n vrou kan met so ‘n dier geslagsgemeenskap beoefen (Lev. 20:15). Hierdie dier het hande en voete en woon ook in stede (Jer. 7:20). Hulle dien die mens (Jer. 27:6) en ontvang loon vir hulle arbeid (Sag. 8:10). Hierdie wilde dier maak van ‘n land ‘n wildernis en kan ‘n mens verhinder om daardeur te gaan (Eseg. 14:15). Die dier dra klere van materiaal en kan met God kommunikeer en berou oor sy sonde hê (Jona 3:8). Verder kan hierdie diere alles belaster waarvan hulle niks weet nie; hulle kan dus met mense kommunikeer (Judas 1:10). Hierdie wilde diere van die aarde was ook saam met die ander diere en vee in Noag se ark en het dus só behoue gebly.”

Dit is die wilde diere aan wie Suid-Afrika volgens Jesaja 18:6 oorgegee sal word. Koning Nebukadnésar moes vir sy straf sewe jaar tussen wilde diere (swart stamme) in die bos bly en saam met hulle gras en boomwortels eet (Dan. 4:15). Hulle was sy bediendes gewees (Jer. 27:6). Paulus het ook met só ‘n wilde dier geveg (1 Kor. 15:32).

Rigiede skeiding

Die Israelvisie sien homself as ‘n behoudende, regse groep wat sy bondsvolk-identiteit teen die linkse aanslag van ‘n goddelose wêreldmening moet beskerm. Om dié rede stel hy sy fundamentele teologiese siening wat baie sterk op afgesonderdheid, eksklusiwiteit, rasse- en volksuiwerheid gebaseer is, teenoor die liberale teologie van die afvalliges wat met die heidenwêreld, en selfs met die diere van die veld, wil vermeng.

Name van God

Die Israelvisie is baie gesteld daarop dat slegs die Hebreeuse name vir God gebruik moet word. Die vertalings daarvan word nie aanvaar nie omdat dit na bewering heidense godsbegrippe in die Bybel indra om dit vir die wêreldgodsdienste meer aanvaarbaar te maak. Ds. Steenkamp sê in sy boek, “Wie is uitverkore?,” dat die naam “Jesus” uit die Griekse mitologie afkomstig is en van “Je-Zeus” (Seun van Zeus) afgelei is. Dit is die rede waarom die Israelvisie na Jesus as Jeshua of Jashua verwys, na Christus as Messias of Mashiach, en na God of die Here as Jahweh, Elohim of Adonai. Hierdeur gee die Israelvisie te kenne dat die Christelike godsdiens die afgelope byna 2000 jaar deur valse kerke in die name van valse gode beoefen is.

Verwerping van Joodse invloede

Die begrip “Jood” het vir die Israelvisie ‘n baie negatiewe konnotasie omdat dit vir hulle op verbasterde Israeliete dui. Daar word beweer dat waar dié term in die Bybel voorkom, dit foutief vertaal is en eerder as “Judeër” aangedui moet word. Hierdie fout het volgens die Gemeente van die Verbondsvolk tot gevolg dat die Jode oral in die wêreld as die uitverkore volk gesien word. Daar word toegegee dat daar enkele suiwer Judeërs onder die Jode is, maar bygevoeg dat die meeste van hulle Edomiete is. Ds. Steenkamp sê van hulle: “Magtig het hulle dit reggekry om oor die eeue die rol te speel dat hulle Israel is… Hierdie Jode vorm vandag deur die slinksheid van hulle vader (Joh. 8:44) die topstruktuur van die Illuminati, d.w.s. die internasionale geldmag. Hulle beheer die VVO en het deur hulle Sionistiese organisasies groot invloed in die wêreld.”

Pogings word ook aangewend om Jesus van sy Joodse verband los te maak, en sodoende die Christendom van alle Joodse invloede te suiwer. In die proses word daar met verskeie Nuwe Testamentiese uitsprake weggedoen, asook met Jesus se titel as die “Seun van Dawid.” Daar word op gewys dat Maria reeds verwagtend was toe sy met Josef getroud is, dus was Jesus “nie regtig” ‘n Jood uit die geslag van Dawid nie.

Wedergeboorte

In sy belydenisskrif sê die Gemeente van die Verbondsvolk die volgende oor wedergeboorte:

·         “Van Bo gebore (Joh. 1:13; 3:3, 5, 7; 1 Joh. 3:9). Dit beteken dat daar ‘n fisiese geslag op aarde is wat uit Jahweh Almagtige gebore is.”

·         “Wedergeboorte (1 Pet. 1:23). Hier dui dit aan dat die fisiese, uit Jahweh Almagtige gebore volk, Israel, (onverganklike saad) weer herstel is deur die sterwe van Jashua aan die vloekhout. Volgens Hosea 1 en 2 word die verstrooide volk Israel, “Lo ammi” weer “ammi” [“Nie my volk” word weer “My volk”] (1 Pet. 2:9-10; Rom. 9:25-27). Die volk is dus gewederbaar of herstel. Omdat hulle die uitverkorenes (1 Pet. 1:2) en die genetiese geslag van Jahweh is, daarom is hulle herstel. ‘Julle is gewederbaar…’ (Kyk Eseg. 36:25-27; Tit. 3:5; Matt. 19:28).”

Genetiese lede van die uitverkore volk van Israel moet dus net na die verbond terugkeer (gedoop word) dan is hulle saak weer reg – die volk is reeds gewederbaar. Sekere Israelvisiegroepe soos dié van dr. N.A. Burger in Newcastle, aanvaar nie die doop as volwaardige verbondsteken nie en dring op die besnydenis aan. Dit word gedoen met die oog op tekste soos Jesaja 52:1 wat sê dat daar geen onbesnedene in die verheerlikte Jerusalem sal inkom nie.

Aanslag op Paulus en Lukas

Daar is ook strominge met meer radikale sienings binne die Israelvisie. Hierin word Paulus se sendbriewe en Lukas se beskrywing van Handelinge sterk bevraagteken omdat hulle van die wet afgewyk het. Hulle het ook foutiewelik opgetree deur die verlossingsplan wat Jesus net vir Israel bedoel het, vir die heidene aan te bied. Dr. N.A. Burger van die Talita Koemi gemeenskap in Newcastle het met ‘n veldtog teen Paulus begin en is met ander Israelvisiegroepe hieroor in verbinding. In ‘n artikel “Nuwe antwoorde op skriftuurlike kwelvrae” sê hy onder meer:

·         “Paulus het geen gesig gesien soos wat Lukas beweer nie, maar het sonsteek gekry omdat hy in die middag in hierdie bloedige warm gebied gereis het (Hand. 22:6).

·         “Paulus was nie ‘n kenner of onderhouer van die Wet nie. Hy het byvoorbeeld in sy vervolgingswaansin teenoor sy volksgenote die Notsrim (wette wat in Levitikus 19 voorgeskryf is), 19 keer oortree.

·         “Paulus se ‘evangelie’ (Gal. 2:2) was nie vir die yweraars van die Wet in Jerusalem aanvaarbaar nie (Hand. 22:18). Hy het dus opdrag ontvang om aan die verheidense ethnos (volke) die Oorspronklike Wet te gaan leer. Hierdie Wet wat Elohim aan Noag gegee het, het op drie basiese beginsels berus, naamlik dat daar (1) geen afgodery; (2) geen hoerery; en (3) geen bloedbesoedeling mag plaasvind nie. Sodra ‘n volksverwante buitestaander dié drie wette nakom, is hy as ‘n vreemdeling in die poorte van Israel aanvaar. Hy kon dan byeenkomste bywoon waar die hele Wet geleer word… Dan kon hulle oorgaan tot die heel belangrikste stap, nl. om toe te tree tot die verbond wat Elohim met die vadere gesluit het, deurdat die manlikes hulle laat besny het (Gen. 17:14)… As u nie toetree tot die verbond wat Elohim met ons vadere gesluit het deur die verbondsbesnydenis te aanvaar nie, noem u uself tevergeefs ‘n Israeliet (Eseg. 44:6-13).

·         “Paulus het sy eie evangelie ontwikkel, vry van die Wet en die besnydenis (vgl. Gal. 2:4) en dit ook aan die verbondsbesnede en wetsgehoorsame Judeërs verkondig. Paulus was oënskynlik oningelig oor Jashua se opdragte aan sy apostels dat hulle nie na die heidene moet gaan nie, maar liewer na die verlore skape van die huis van Israel (Matt. 10:5-6).

·         “In ‘n vergelyking van gegewens wat Lukas in sy twee Bybelboeke, “Die Evangelie volgens Lukas” en “Die Handelinge van die Heilige Apostels” met ander Nuwe Testamentiese geskrifte verstrek, kom daar geweldig baie feitlike onjuisthede aan die lig. Lukas was ‘n Griekse dokter wat hom by Paulus aangesluit het. Hy het oor weinig eerstehandse kennis t.o.v. Jashua of die apostels se doen en late beskik… Paulus maak nie in sy sendbriewe melding van die buitengewone gebeure op die Damaskuspad wat tot sy bekering gelei het nie. Dit kom dus voor dat dit ‘n verbeeldingsvlug van Lukas is, wat ‘n bewonderende volgeling van Paulus was. By die drie geleenthede waartydens Lukas oor Paulus se bekering verslag doen, weerspreek hy homself in al drie gevalle.

·         “Paulus het nie alleen die apostels nie, maar ook die Messias, die Wet en die profete deur sy uitsprake gerepudieer. Hy het inderdaad vir baie ‘n plaasvervanger van die Messias geword wat ‘n totaal nuwe godsdiens, los van die gevestigde Judeër-geloof, daargestel het. Hierdie geloof het maklike aansluiting by die bestaande afgodsdienste van sy tyd gevind (Hand. 14:12-13; 17:22-23), insluitende dié van Rome. Hy het, miskien onbewustelik, deur sy weersprekende uitsprake daartoe aanleiding gegee dat Rome die ware geloof geskaak en vervorm het tot ‘n wêreldgodsdiens bekend as die Christendom. Dit was juis onder sy prediking dat hierdie naam sy ontstaan in Antiochië gehad het (Hand. 11:26). Dit kom soms voor asof Paulus sy eie dwaasheid besef het wanneer hy verklaar: “Maar as die waarheid van Elohim deur my leuen oorvloediger geraak het tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as ‘n sondaar geoordeel?” (Rom. 3:7). Mens sou kwalik wou aanvaar dat Paulus hom met leuens opgehou het, maar die feite bewys dit: (1) Paulus het ‘n ander evangelie as die apostels verkondig; hy erken dit self in Gal. 1:6-9 en 2:2. In 2 Kor. 11:4-5 sê hy dat hy selfs ‘n ander Messias as die apostels verkondig. (2) Paulus verwerp regverdigmaking deur die Wet (Gal. 2:16) en verklaar dat almal wat uit die werke van die Wet is, onder die vloek is (Gal. 3:10; Rom. 4:15). Die kerke glo hom! Waarom? Omdat hulle, net soos Paulus, die Skrifte eiesinnig interpreteer… Paulus weerspreek hierin die Messias self (Matt. 5:17-19) en verklaar dat as iemand hom laat besny, Messias vir hom tot geen nut sal wees nie (Gal. 5:2). Sy opvattings is weer eens strydig met dié van die Messias self (Joh. 7:22-23) en die apostels (Hand. 21:21).”

Israel, Jode, heidene en diere

Nog ‘n skrywer oor die Israelvisie is mnr. G.L. Venter. In ‘n publikasie, “Israel (nie Jode nie) ontwaak asseblief,” spreek hy die blanke bondsvolk aan om sy ware identiteit te besef en uit te leef. In ‘n persoonlike brief aan skrywer (ged. 13.9.1990) sê hy onder meer:

“Nou kan ek verstaan waarom u en die meeste leraars nie die Skrif kan verstaan nie en dus nie die Israel-waarheid wil aanvaar nie. Dit is omdat julle nie die verskil sien tussen Israel, die tien stamme wat na Assirië weggevoer is, en die Judeërs (Jode) wat tesame met die Benjamin-stam na Babilonië weggevoer is nie. Nou beskou julle almal as Israel terwyl daar ‘n hemelsbreë verskil is. Die bewering word telkens gemaak dat Israel vir Christus verwerp het. Dit is tog duidelik ‘n leuen. Israel (die tien stamme) was toe vir 720 jaar al in die verstrooiing en hulle het nie eers geweet dat Christus gebore is nie. Hoe kon hulle Hom dan verwerp het? Dis mos onsin. Dit was tog die Jode wat Hom verwerp het. Hoe is dit dat hierdie uiters belangrike punt nie raakgesien word nie? Die Jode het uit die ballingskap teruggekeer, en nie Israel nie.

“Die volgende geweldige fout wat die meeste leraars maak, is die betekenis van die woord heidene en nasies. Sodra die woord heiden gebruik word, sien hulle onmiddellik swart, bruin en geel mense in hulle verbeelding. Waar Paulus sê: “Ek wend my nou na die heidene,” sê hulle: “Hoe pragtig. Nou moet die Woord aan die swartes en bruines en geles ook verkondig word.” Hulle merk egter nooit op dat toe Paulus sy skippie vat en agter die Israeliete in verstrooiing ry hy aan hulle – die Israeliete wat toe nog heidene was – die evangelie gaan verkondig het nie.”

‘n Uitdaging is aan mnr. Venter gerig om ‘n besoek aan ‘n sendingstasie in Natal te bring, asook aan ‘n Kleurling-gemeente in die Noord-Kaap, om homself eerstehands te gaan vergewis of daar ware Christene onder dié mense is. Ek het toegegee dat daar onder die gekleurde volke, soos ook onder die blankes, baie valse profete, vormgodsdiens en dwalings voorkom, maar daar is ook ware kinders van die Here onder hulle. Sy reaksie was:

“Ek het nie na die gemeentes van die anderskleuriges gegaan soos u voorgestel het nie, omdat dit oor en oor in die Bybel gesê word dat ons nie met hulle mag meng nie. Hulle mag nie in ‘n kerk kom nie, ons mag nie met hulle verswaer nie, en ons moet nie gaan op die pad na die (anderskleurige) heidene nie. Ek glo dat daar wonderwerke van genesing plaasvind by hulle. Ons het die voorbeeld van die Kananese vrou (‘n swarte) in Mattheus 15 waar haar dogter deur Christus genees is, maar dit het hulle nog nie ‘n passaat hemel toe gegee nie. Dieselfde met die anderskleuriges om ons. Selfs verskeie van my diere op die plaas is al deur Jashua genees nadat ek vir hulle hande opgelê en vir hulle gebid het. Christus het na die swart Kananese vrou as ‘n hond verwys (Matt. 15:26). U maak seker beswaar daarteen as ek dit sê? Dan moet u in Die Kerkbode van 17.6.1981 oor die diere van die veld gaan lees…”

Israel bestaan uit baie volke

Die Israelvisie maak daarop aanspraak dat al die blanke volke in die wêreld afstammelinge van die tien “verlore” stamme van Israel is. Hierdie aanname word gemaak op grond van die belofte aan Abraham dat sy nageslag soos die sand aan die see sal wees (Gen. 22:17). Israel is vir hulle dus nie een volk nie, maar baie volke.

Oordele oor Israel se vyande

Daar word nie gehuiwer om die grootste oordele van God oor Israel se vyande uit te spreek nie. Hierdie waarskuwings word nie net op ‘n skewe vertolking van Bybelse profesieë gebaseer nie, maar ook op buite-Bybelse profesieë deur selfaangestelde profete en profetesse. Die Dogter van Sion het in Maart 2004 ‘n boodskap aan Nelson Mandela gestuur, waarin onder andere die volgende waarskuwings aan hom en die regering vervat is:

“Op 8 Maart 2004 het Jahweh, die God van Israel, die Allerhoogste God, ‘n profetiese boodskap aan Nelson Mandela gegee deur sy profeet in die VSA, Linda Newkirk… As jy nie die tronkdeure gaan oopmaak en almal gaan vrylaat wat tans in Pretoria verhoor word nie, sal Ek op ‘n magtige wyse teen jou opstaan. Ek sal verskriklike plae na jou en jou huisgesin stuur, en na almal wat saam met jou in die regering van Suid-Afrika werk. As jy my volk nie wil laat gaan nie, sal groter vervloekinge oor jou en jou regeringsbondgenote kom… Die hemele sal verduister word, selfs gedurende die dag, en Ek sal begin om die heuwels te skud…. Groot sal my wraak teen jou en jou regeringsbondgenote wees, en alle swartmense van Suid-Afrika sal ly. Vuur en haelstene sal begin om uit die hemel te val, en baie sal omkom as jy en jou regeringsbondgenote in Suid-Afrika nie die tronkdeure oopmaak en my volk laat gaan nie… My hand is op my volk; net soos Ek hulle in die ou tyd van Farao verlos het, sal Ek hulle weer uit die gevangenskap verlos.”

Geen reaksie is van mnr. Mandela ontvang nie, en daarna is hierdie waarskuwings aan kerke, politieke partye en die media gestuur. Daar is egter by die meeste lede van die Israelvisie ‘n groot ontnugtering omdat die profesieë van verskeie profete, insluitende Siener van Rensburg, nie vervul is nie.

Evaluering van aansprake

Die leerstellings van die Israelvisie kan bo alle twyfel op die volgende wyse uit die Skrif, asook uit ondersteunende historiese bronne, weerlê word:

Die universele implikasies van God se verbond

Reeds met die roeping van Abraham uit Ur van die Chaldeërs, het God besluit dat sy reddende genade op die bestemde tyd ná die koms van die Messias aan alle nasies verkondig sou word. Aan Abraham het Hy gesê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 12:3). Die Here herhaal hierdie belofte later weer aan Abraham: “En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Gen. 22:18). Hierdie seëninge het spesifiek deur Jesus Christus van Israel af na die nie-Joodse wêreld gekom:

“Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word – want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang – sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang” (Gal. 3:13-14).

Let daarop dat die belofte van God se seën deur die geloof ontvang word, en nie deur afkoms bepaal word nie. Om jou lewe aan die Here Jesus oor te gee, is die basiese vereiste wat deur God gestel word om aan Hom te kan behoort: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal. 3:29).

Jesus Christus het nie biologiese afstammelinge nie – net mense uit alle volke wat deur die geloof aan Hom verbonde is. Om dus in die geloof ‘n kind van Abraham te wees, het niks met geslagsregisters, afstamming of velkleur te doen nie – net met wedergeboorte. Die moontlikheid tot wedergeboorte word aan alle mense gebied – nie net aan die fisiese nasate van Abraham wat die verbondsteken van die besnydenis het nie; daarom sê Paulus: “In Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel” (Gal. 6:15).

Ter wille van die redding van mense uit alle nasies op aarde het Christus aan sy dissipels gesê: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Mark. 16:15). In die oorspronklike teks staan daar: “…verkondig die evangelie aan alle kreature [skepsele],” m.a.w. mense van alle afkomsgroepe, rasse en volksverbande. Dit is inderdaad wat God aan Abraham gesê het: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word,” d.w.s. alle biologiese vertakkings van die ganse mensdom. Dit is ook in ooreenstemming met die sendingopdrag in Mattheus 28:19: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies.”

Die universele strekking van die evangelie blyk ook duidelik uit die gebruik van die begrip wêreld in die Nuwe Testament. In die meeste gevalle is die Griekse woord kosmos hiervoor gebruik. Dit verwys na die hele wêreld, en selfs ook na die heelal. Dié woord word in Markus 16:15 gebruik: “Gaan die hele kosmos in en verkondig die evangelie aan alle skepsele.” ‘n Ander Griekse woord wat ook gebruik word, is oikoumene wat as die bewoonde wêreld vertaal kan word. Die opdrag in Mattheus 24:14 lui dus: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele bewoonde wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”

Christus se veelbesproke opdrag aan sy dissipels om net na die verlore skape van die huis van Israel te gaan (Matt. 10:6), is gegee in ‘n stadium toe Hy Homself as die beloofde Messias aan Israel gebied het (Matt. 15:24). Nadat hulle Hom egter verwerp en gekruisig het en Hy uit die dode opgestaan het, het die duidelike opdrag gekom dat die evangelie nou aan alle nasies van die wêreld (nie net in Europa nie!) verkondig moes word (Matt.28:19).

Die nie-Joodse volkere en nasies word in die Hebreeus goyim en in Grieks ethné (ekv. ethnos) genoem, m.a.w. etniese groepe. (Skrywer is ‘n etnoloog en dit behels ‘n studie van volke uit al die verskillende rasse op aarde). In die Ou Testament, en ook tot diep in die Nuwe Testament, was die nie-Joodse etniese groepe uit ‘n geestelike oogpunt almal heidene, daarom word die begrip volke dikwels in die Bybel met heidene vertaal. Hulle is nooit as afstammelinge van Israel beskou nie, daarom was dit vir die dissipels so moeilik om te aanvaar dat God se genade in die Nuwe Testament ook aan die nasies uit die heidenwêreld gebied word:

“En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Hand. 10:34-35).

God kyk dus na jou hart – nie na jou afkoms en etniese verband nie. Hy red of verwerp ook nie totale volke nie, maar individue uit elke volk en stam. Aan die einde van Petrus se preek aan die Romeinse Cornelius en sy gesin en vriende, lees ons die volgende:

“En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die Woord gehoor het. En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die hiedene uitgestort is” (Hand. 10:44-45).

Eintlik moes hulle nie so verbaas gewees het nie, want die Here het eeue tevore al deur Jesaja vir Israel gesê dat wanneer die Messias kom, sy oproep tot bekering nie aan hulle alleen gerig sou word nie, maar aan alle nasies:

“Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:6).

Paulus beroep homself in Handelinge 13:46-47 op hierdie uitspraak in Jesaja as hy verduidelik waarom hy in opdrag van die Here homself tot die heidene in die nie-Joodse wêreld wend: “…kyk, ons wend ons tot die heidene. Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.”

Geen beperkende Israelvisie kan hierin gelees word nie, en ook nie ‘n onderskeid tussen Israelse heidene en ander heidene nie. Indien daar slang-nasies was wat in hulle geheel onredbaar is, sou hulle uitdruklik by die sendingopdrag uitgesluit gewees het. Daar bestaan egter nie so-iets nie:

“Behoort God net aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie? Ja, ook aan die heidene, aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof” (Rom. 3:29-30).

Die God van die Jode (van hierdie uitdrukking hou die Israelvisie glad nie) is ook die God van gelowiges uit die ganse heidenwêreld. Die Here het self gesê: “Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God en daar is geen ander nie” (Jes. 45:22). Hy is nie net die God van Israel nie, maar van individue uit alle nasies wat Hom wil dien.

Tydelike verdeling tussen Israel en Juda

Daar was nooit ‘n rigiede verdeling van die 12 stamme in twee politieke ryke nie, omdat groot getalle mense in verskillende tye uit Israel na Juda gemigreer het. Die noordelike ryk van Israel is gedurende die 250 jaar van sy bestaan deur 19 goddelose konings regeer. Daar was nie eers een godvresende onder hulle nie. Die Bybelse Ensiklopedie sê:

“…die koningskap van die tien stamme van Israel was ‘n revolusie-koningskap; dit was dinastieë wat mekaar verdring het. Daar was dikwels konings wat aan die bewind gekom het deur hul voorgangers te vermoor. Die afgodery was groot… Op politieke gebied is groot flaters begaan deurdat hulle op Assur of Egipte of Damaskus gesteun het.”

Reg uit die staanspoor van hierdie ryk het Jeróbeam met afgodediens en duiwelaanbidding begin en het deur dié goddelose optrede van hom die ware gelowiges na Jerusalem in die suide verdryf:

“Want die Leviete het hulle weiveld en hulle besitting verlaat en na Jerusalem getrek; want Jeróbeam en sy seuns het hulle verwerp, sodat hulle geen priesters van die Here meer kon wees nie. En hy het vir hom priesters aangestel vir die hoogtes en die veldduiwels en die kalwers wat hy gemaak het. En agter hulle aan het uit al die stamme van Israel die wat hulle hart daarop gerig het om die Here, die God van Israel, te soek, na Juda en Jerusalem gekom om aan die Here, die God van hulle vaders, te offer” (2 Kron. 11:14-16).

Daar was dus van die begin af geen absolute en streng verdeling tussen die gewone lede van die verskillende stamme nie. Die een rede, soos hierbo genoem, was die volhardende gees van goddeloosheid wat daar in Samaria geheers het. Wanneer die gelowige Israeliete gehoor het dat daar ‘n godvresende koning in Juda regeer het, soos koning Asa, het hulle permanent na hom toe oorgeloop:

“Daarop vergader hy die hele Juda en Benjamin, ook die vreemdelinge wat uit Efraim en Manasse en uit Simeon by hulle was; want uit Israel het hulle in menigte na hom oorgeloop toe hulle sien dat die Here sy God met hom was” (2 Kron. 15:9).

‘n Ander rede vir die voortgesette versterking van Juda en die drastiese verswakking van Israel, was oorlogvoering. Koning Asa se vader, Abia, het teen Israel geveg en 500 000 van Israel se soldate het gesneuwel:

“En Abia met sy manskappe het ‘n groot slag onder hulle geslaan, sodat van Israel vyfhonderdduisend jong manskappe as gesneuweldes geval het. En die kinders van Israel is in dié tyd verneder, maar die kinders van Juda het sterk geword, omdat hulle op die Here, die God van hulle vaders, gesteun het” (2 Kron. 13:17-18).

Binne 20 jaar het die weermag van Juda van net 180 000 (1 Kon. 12:21) tot 580 000 (2 Kron. 14:8) gegroei. Ná 40 jaar het Juda ‘n gedugte weermag van 1 160 000 soldate gehad (2 Kron. 17:14-18). In teenstelling hiermee het Israel se weermag tot ‘n skamele 7 000 manskappe gekrimp (1 Kon. 20:15). Dit is onmoontlik om die dramatiese toename in Juda se weermag net aan natuurlike aanwas toe te skryf. Die groot volksverhuisings uit Israel is hiervoor verantwoordelik, wat beteken dat Juda met die verloop van tyd weer verteenwoordigend van al twaalf die stamme geword het.

Die Assiriese ballingskap van Israel

Mense skep soms op grond van 2 Konings 17:18 die misleidende indruk dat die hele Israel in 721 v.C. na Assirië weggevoer is. In werklikheid is net die leiers en vooraanstaande families van Israel weggevoer, sodat die leierselement daarvan weg was. Die arm mense, wat ver in die meerderheid was, het agtergebly. Dit was ook die geval met die Babiloniese ballingskap van die suidelike koninkryk 134 jaar later (2 Kon. 24:14-16 en 25:11-12). Oor die omvang van Israel se ballingskap sê die Bybelse Ensiklopedie (bl. 53):

“Salmanéser V (726-722 v.C.) het die laaste koning van die tienstammeryk, Hosea, gevange geneem en die hoofstad Samaria beleër. Sargon II (721-705 v.C.) deel in sy annale mee dat hy aan die begin van sy koningskap, in sy eerste regeringsjaar, Samaria ingeneem en 27 290 inwoners weggevoer het (kyk 2 Konings 17:1-6).”

Nou moet die vergesogte bewering beantwoord word dat die 27 290 ballinge na Europa toe getrek het (of deur die oostewind daarheen gewaai is) en die stamvaders van al die blanke nasies van die Westerse wêreld geword het. Die Israelvisie val op dié punt alleen totaal plat, omdat daar in hierdie tyd glad nie so ‘n volksverhuising van Isaraeliete na Europa toe plaasgevind het nie.

In 2 Konings 17:6 word die stede in die Assiriese ryksgebied genoem waarheen die ballinge weggevoer is. In 612 v.C. is Assirië egter deur die Babiloniërs oorwin en het hulle grondgebied deel van die Babiloniese ryk geword. Die profeet Eségiël wat in 597 v.C. saam met Jójagin deur Nebukadnésar na Babilonië weggevoer is, het in Tel-Abib by die Kebarrivier gewoon. Hier het hy ook die ballinge van Israel aangetref, oor wie die Here met hom gepraat het:

“Hy sê toe vir my: Mensekind, Ek stuur jou na die kinders van Israel, na die opstandige nasies wat teen My opgestaan het; hulle en hul vaders het teen My oortree tot hierdie selfde dag toe… Toe het die Gees my opgehef en my weggeneem, en ek het gegaan, verbitterd in die grimmigheid van my gees; maar die hand van die Here was sterk op my. En ek het by die ballinge gekom in Tel-Abib, wat by die Kebarrivier gewoon het, en by die plek van hulle woning; en ek het daar sewe dae lank verstom in hulle midde gesit. En aan die einde van die sewe dae het die woord van die Here tot my gekom en gesê: Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (Eseg. 2:3; 3:14-17).

‘n Groep van die tien stamme van Israel was dus in Assirië, ‘n groep het in Samaria agtergebly, en ‘n groot groep het reeds na Juda verhuis. Die lotgevalle van die twee huise van Israel (die tien stamme en die twee stamme) het sedert die Babiloniese ballingskap van Juda in dieselfde arena afgespeel. Hulle het dus weer saamgevloei en word daarna altyd as een volk saam genoem. ‘n Jaar ná Eségiël se besoek aan die ballinge in Tel-Abib sê hy:

“Ag Here Here, gaan U die hele oorblyfsel van Israel vernietig deurdat U u grimmigheid oor Jerusalem uitgiet? Toe sê Hy vir my: Die ongeregtigheid van die huis van Israel en van Juda is buitengewoon groot, en die land is vol bloedskuld, en die stad is vol regsverbreking” (Eseg. 9:8-9).

Daar is dus geen Bybelse óf betroubare buite-Bybelse bronne wat enige melding van Israel se uittog na Europa maak nie. Selfs 160 jaar ná die Assiriese ballingskap van Israel word daar geskryf:

“En die kinders van Israel het gewandel in al die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het, hulle het daar nie van afgewyk nie; totdat die Here Israel van sy aangesig verwyder het soos Hy gespreek het deur al sy diensknegte, die profete; en Israel is in ballingskap uit sy land weggevoer na Assirië tot vandag toe” (2 Kon. 17:22-23).

Die feit dat Israel en Juda saam in die Assiries/Babiloniese gebied verdruk is, en ook daar ingeperk is, word deur Jeremia bevestig:

“So sê die Here van die leëerskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek. Maar hulle Verlosser is sterk, Here van die leërskare is sy Naam” (Jer. 50:33-34).

Dit is hieruit duidelik dat Assirië én Babilonië geweier het om die ballinge te laat trek. Hulle is dus ook nie toegelaat om Europa toe te trek nie! Die opdrag om te trek het eers gekom nadat die mag van Babel in 539 v.C. deur Kores gebreek is. Hy het hulle na hul eie land laat teruggaan:

“So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die Here, die God van die hemel, aan my gegee; en Hý het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort – mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die Here, die God van Israel, bou! Hy is die God wat in Jerusalem is” (Esra 1:2-3).

Dit was dus die wil van die Here, die God van Israel, dat die hele volk uit die ballingskap na hulle eie land terugtrek, en dat slegs Jerusalem as hulle gemeenskaplike hoofstad herbou word. Die Bybel is ook baie duidelik daaroor dat die hele Israel (m.a.w. almal wat weggevoer is) uit die ballingskap teruggekeer het (Esra 2:70; 3:1-2; 6:21; 7:7-13; 10:1-5).

Die Israeliete in Samaria

Nou moet ons die paadjie volg van lede van die tien stamme wat in Samaria agtergebly het nadat die ballingskap plaasgevind het. Hulle het volhard in hul goddeloosheid en geen berou getoon nie – selfs nie ná die traumatiese gebeure van die beleëring en val van Samaria nie. Baie van hierdie Israeliete het selfs met die Assiriërs begin ondertrou, en uit dié vermenging het die Samaritane ontstaan. Diegene onder hulle wat wél tot besinning gekom het, het na Jerusalem getrek om daar aan die tempeldiens deel te neem en in die meeste gevalle sommer permanent by hulle volksgenote in Juda aan te sluit. Die bestes uit Israel het hierheen getrek.

‘n Paar jaar ná die Assiriese ballingskap was daar ‘n groot geestelike herlewing in Juda onder die bewind van koning Hiskia. Hy het die agtergeblewe Israeliete ook uitgenooi om die pasga van die Here in Jerusalem te kom vier (2 Kron. 30:1-27). Dit was ‘n wonderlike belewenis.

‘n Honderd jaar later is daar onder die bewind van koning Josia nog ‘n groter fees in Jerusalem gevier, waarby Israel ook betrokke was (2 Kron. 35:16-19). Hulle het selfs ook finansieel tot die herstel en reiniging van die tempel bygedra (2 Kron. 34:9).

Daar is dus geen verlore stamme van Israel nie. Die 27 290 wat as gevangenes na Assirië weggevoer is, en hulle later as gevolg van die val van Assirië in die Babiloniese ryksgebied bevind het, is nie toegelaat om weg te trek nie, en het ook met die ballinge uit Juda verenig geraak. Hulle het as ‘n verenigde groep uit die ballingskap teruggekeer.

Die room uit die tienstammeryk het van die begin af al om godsdienstige redes na Jerusalem verhuis en by Juda aangesluit. Vroeg ná sy afstigting was Juda reeds verteenwoordigend van al twaalf die stamme van Israel. Die harte van die paar godvresende konings in die suide het na hulle broers in Samaria uitgegaan en hulle genooi om na Jerusalem op te trek. Dit het na ‘n groot bevolkingstoename in Juda gelei. Dorpe en stede het by tye uit hul nate gebars omdat hulle die groot groepe aankomelinge uit die noorde moes huisves en permanent in die samelewing opneem.

Die terme Jood en Israel

Daar is geen waarheid in die bewering dat die term Jood op ‘n grootskaalse vermenging tussen Jode en Edomiete dui nie. Jode (of Israeliete) wat met ander nasies vermeng, raak gedenasionaliseer en verkry in die proses ‘n ander nasionaliteit. Hulle het met die heidennasies (goyim) ondertrou en hulle kinders verbeur dan hulle godsdienstige posisie en regte as Jode. Hulle word lede van ‘n ander volk.

Wat die benaming Juda betref, moet daarop gewys word dat dit die koninklike stam onder die 12 stamme van Israel is, waaruit ook die Messias, Jesus Christus, gebore is. Dit is dus logies dat al die stamme met Juda sal identifiseer. Soos reeds genoem, het dit voor die Babiloniese ballingskap al gebeur dat groot groepe uit die noordelike 10 stamme by Juda aangesluit het. Ná die ballingskap, vroeg in die 6de eeu v.C. het die term Jode gevestig geraak as ‘n sinoniem vir Israel. U kan maar in Esra en Nehemia gaan lees hoedat die begrippe Jode en Israel afwisselend en alternatiewelik vir dieselfde mense gebruik word. Esra het bv. gesê:

“En deur my word bevel gegee oor hoe julle met hierdie oudstes van die Jode moet handel om daardie huis van God te bou… En die kinders van Israel, die priesters en die Leviete en die ander, uit die ballingskap afkomstig, het die inwyding van hierdie huis van God met vreugde gevier. En hulle het geoffer… 12 bokke as sondoffer vir die hele Israel volgens die getal van die stamme van Israel… En die kinders van Israel wat uit die ballingskap teruggekeer het, het dit geëet” (Esra 6:8, 16-17, 21; In Nehemia 1:6 en 4:1 kom dieselfde afwisseling van volksname voor).

In die Nuwe Testament word die vroeëre verdeling tussen die 2 en die 10 stamme hoegenaamd nie as ‘n bestaande werklikheid erken nie. In totaal word daar na dieselfde volk 174 keer as Jode en 70 keer as Israeliete verwys. Slegs enkele voorbeelde word aangehaal:

Paulus staan tereg op die hoop wat die 12 stamme op die koms van die Messias koester (Hand. 26:6-7). Jakobus (1:1) rig sy brief aan die 12 stamme wat in die verstrooiing is. In Handelinge 2:5,14,22 en 36 word die inwoners van Jerusalem sowel Jode as Israeliete genoem. Die Joodse owerstes is ook Israeliete genoem (Hand. 4:5-8). Christus het self albei volksname ten opsigte van dieselfde mense gebruik:

“En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodemus, ‘n owerste van die Jode… Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” (Joh. 3:1,10).

Aan die Samaritaanse vrou het Hy gesê: “…ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode” (Joh. 4:22). Paulus handhaaf dieselfde wisselwerking van volksname:

“En toe hulle in Sálamis kom, het hulle die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig… Toe staan Paulus op, wink met die hand en sê: Israeliete en julle wat God vrees, luister! Die God van hierdie volk Israel het ons vaders uitverkies en die volk verhoog toe hulle bywoners in Egipteland was” (Hand. 13:5,16-17).

Wat sy eie afkoms betref, laat Paulus ook blyk dat daar geen onderskeid tussen die terme Jood en Israeliet is nie:

“Ek is ‘n Jood, gebore in Tarsis in Celicië” (Hand. 22:3). “Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin” (Rom. 11:1; kyk ook 2 Kor. 11:22 en Fil. 3:5).

Daar is dus geen sprake dat die inwoners van die land Israel verbasterde Edomitiese Jode was, en dat die tien stamme iewers in Europa ‘verlore’ was nie. Hulle was in hul eie land en in buurlande as kinders van Israel geestelik verlore en moes opgesoek en in die naam van die Messias, Jesus Christus, tot bekering opgeroep word.

Israel na Europa?

Die onbybelse en histories onjuiste aanname wat die Israelvisie maak dat die ballinge uit Samaria deur die koning van Assirië toegelaat is om sonder verhindering na Europa te verhuis, stuit teen ‘n horde ander probleme:

Tydens die Assiriese ballingskap van Israel was Europa vir etlike eeue reeds deur blanke volke bewoon, waarvan baie van hulle se name hulle as afstammelinge van Jafet identifiseer. In Génesis 10:2 word Gomer, Magog, Tubal en Meseg onder andere as seuns van Jafet genoem. Uit Gomer het die Germaanse volke afgestam, terwyl die ander drie stamvaders die stigters van verskeie volke in Rusland is. Europa bestaan uit die volgende drie breë etniese groeperinge wat vandag nog as sodanig onderskeibaar is:

·         Die Romane. Dit is volke wat tale praat wat van Latyn afstam, bv. die Italianers, Franse, Spanjaarde en Portugese. Daar is geen aanduiding dat hulle ‘n Midde-Oosterse, Semitiese oorsprong het nie. Die meeste van hulle stam van die vroeëre Ibériërs af.

·         Die Germane. Hulle kom in Sentraal- en Noorwes-Europa voor en sluit die Duitsers, Nederlanders, Vlaminge, Engelse, Dene, Noorweërs, Swede en Yslanders in. Die bestaan van Germaanse stamme kan ten minste tot die tydperk 1 400 tot 1 200 v.C. teruggevoer word – baie lank voor die verstrooiing van Israel.

·         Die Kelte. Dit is ‘n groep Indo-Germaanse stamme wat ná sowat 900 v.C. talle Wes-Europese lande binnegetrek het en tot so ver as die Britse Eilande gemigreer het. Hulle het later geleidelik onder Romeinse invloed gekom en daardeur hulle taal verloor – behalwe in dele van Skotland, Wallis en Ierland. Baie van hulle het rooi hare en blou oë gehad.

Benewens hulle genealogiese afstamming van ‘n heel ander vertakking as die Semitiese volke (Israel en die Arabiere) het die Europese volke ook ‘n duidelik onderskeibare taalfamilie en kulturele erfenis. Hulle tale en kulture toon geen ooreenkoms met dié van die afstammelinge van Sem (die Semiete) nie. Daar is dus geen manier waarop hulle as die suiwer (onvermengde) verlore skape van die huis van Israel beskryf of geklassifiseer kan word nie.

Indien die verstrooide Israeliete volkome die tale en kulture van die Romane, Germane, Kelte, Moskowiete en andere oorgeneem het, dan beteken dit dat hulle totaal deur dié volke geassimileer is en met hulle vermeng geraak het. Hulle het dan ook met heidense nasies buite die verbond ondertrou, soos wat Juda na bewering gedoen het, dus kan daar, streng gesproke volgens die konsekwente toepassing van die Israelvisie se teorie, niemand meer gered word nie. Almal is dan nou deur die saad van die slang besoedel en mag nie in die vergadering van die Here kom nie.

Indien die verstrooide Israeliete die genoemde volke oorrompel het, of indien daar nie sulke volke was nie, hoe het hulle dan hul taal, kultuur en godsdiens geheel en al verloor en dié van vreemdelinge aangeleer? Wie was hierdie heidense vreemdelinge en hoe kon Israel al dié dinge aanleer sonder om in ‘n noue assosiasie met hulle te leef? Indien Israel tóg kultureel in die heidense samelewings geassimileer is, maar nie biologies vermeng geraak het nie, hoe moet ‘n Afrikaanse, Engelse, Duitse of Franse jongman weet of die meisie met wie hy wil trou, van die verlore skape van die huis van Israel afstam, of dalk van die oorspronklike Europese slangnasie wat nooit deel van die verbond was nie?

Kan u sien hoe absurd is die teorie wat die Israelvisie nou aan die Afrikanervolk probeer verkoop, nl. dat ons nie van die Germaanse volke in Europa afstam nie, maar van die verlore skape van die huis van Israel? Om genoeg ‘bewyse’ te probeer kry, tower die Israelvisie allerlei denkbeeldige trekroetes op en stel ook lang, gefabriseerde geslagsregisters op om hulle afkoms te bewys en ook sommer aan te toon hoe die troon van Dawid deur die Britse koningshuis geërf is en sedertdien voortgesit word.

Die Khazar-teorie is net so oordrewe en onaanvaarbaar omdat ‘n mengsel van Jode, Edomiete en Turkse Khazars bloot nie meer Jode is nie. As Rusland dan deur die Khazar Jode oorgeneem is en beheer word, waarom vervolg hulle al sedert die pogroms van die vorige eeu die Russiese Jode wat na bewering self ook Khazar Jode is? Waarom was die Sowjet-Unie voor sy val heftig anti-Joods en onversetlik teen die emigrasie van Jode na Israel gekant? En waarom het hulle die Arabiere teen die Joodse staat bewapen?

Die Israelvisie hou homself inderdaad met “fabels en eindelose geslagsregisters” besig (1 Tim. 1:4) en het as gevolg daarvan afgewyk van die waarheid en in ‘n woestyn van onsekerhede en teenstrydighede beland.

Die internasionale verstrooiing

Daar het wél in later eeue Israeliete (ook Jode genoem) na Europa verstrooid geraak. Diegene onder hulle wat nie met die heidene (nie-Joodse nasies) ondertrou het nie, het hulleself eenkant gehou en hulle eie godsdiens in die sinagoges beoefen. Hulle getalle is baie aangevul ná die val van Jerusalem in 70 n.C. en weer ná die onderdrukking van die Bar Kochba opstand in 132-133 n.C. Paulus het altyd eerste na sy Israelse volksgenote gegaan. Nadat hulle hom verwerp het, het hy homself in opdrag van die Here tot die heidene gewend. Die heidene het nooit daarop aanspraak gemaak dat hulle die verlore skape van die huis van Israel is nie, en Paulus of die ander apostels het ook nie so-iets beweer nie.

Die herstel uit ‘n toestand van verstrooiing word duidelik geprofeteer as ‘n verenigde Israelse volk wat uit al twaalf die stamme bestaan:

“So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie” (Eseg. 37:21-22).

Hieruit blyk dit duidelik dat die herenigde Israel, m.a.w. al twaalf die stamme, na die land Israel teruggebring word om daar as een nasie te woon en die Here te dien. Hulle sal nie meer twee nasies wees nie, en ook nie ‘n hele klomp nasies, soos wat die Israelvisie beweer nie. Verder is dit duidelik dat Juda wesenlik deel van Israel bly, en dat daar tot aan die einde wanneer die Koning kom, etniese onderskeid getref word tussen Israel en die nasies waarheen hulle getrek het – ook dié in die Weste.

Die Israelvisie het ‘n groot probleem as hulle meen dat die hele blankedom van die Westerse wêreld na Israel moet teruggaan om hulle plek onder die stamme in te neem. Israel sal nie eers die sowat sewe miljoen Jode wat nou nog in verstrooiing in ander lande is, kan akkommodeer sonder om sy grense uit te brei nie.

Jodehaat

Wat Israel (die Jode) betref, is dit ‘n saak van baie groot erns om die regte gesindheid teenoor hulle te openbaar. Die Here het vir Abraham gesê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3).

Ons is baie aan die Jode verskuldig omdat die Here sy Woord déúr hulle aan ons bekend gemaak het. Selfs al het sommige van hulle ontrou en afvallig geword, is ons steeds oneindig baie aan hierdie volk verskuldig:

“Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is. Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie!” (Rom. 3:1-4).

Seën Israel en moet hulle nie vervloek nie. Erken hulle besondere identiteit, roeping en toekoms, en moet dit nie van hulle vervreem en aan hulle ‘n slegte naam gee nie. In ‘n artikel, “Israel, nasies, volkere, heidene – wat leer die Skrif?,” sê ds. J.J. Engelbrecht van Pretoria onder meer:

“Alle boekies en geskrifte om te probeer bewys dat die Jode nie Jode is nie, en nog erger, dat juis die onbesnede blankes dan die ware Israeliete sou wees, is futiel, totaal in stryd met die Bybel en is op Jodehaat gemik. Die Satan het deur die eeue heen altyd gepoog om van alle nasies vyande van Israel te maak, want hy weet dat die herstel van die koninkryk vir Israel onder hulle Messias, Jesus, die einde van sy ryk van die duisternis sal wees. Daarom sal hy selfs die Afrikanervolk probeer oortuig dat die Joodse volk nie Israeliete is nie, en daarom geen aanspraak op die Beloofde Land het nie. Uiteindelik sal hy daarin slaag om deur demoniese verleiding die regerings van die wêreld te oortuig en aan te hits om op te trek na Armagéddon om Jerusalem te herower en die Joodse volk uit te roei (Op. 16:13-14). Pas op wat julle hoor! (Mark. 4:24).”

Jodehaat is ‘n kanker van die siel, en genesing daarvan moet by die Here Jesus gesoek word. As jy nie verlossing daarvan kry nie, woed dit voort en bring ‘n verduistering oor jou gemoed. Uiteindelik sal dit daartoe lei dat jy blindelings jou goedkeuring en ondersteuning sal gee aan almal wat die Jode vervolg en wil uitwis. Daar is baie mense wat spesifiek om dié rede ‘n groot bewondering vir Adolf Hitler en ander vervolgers van die Jode koester. Die groot Jodehater, die Antichris, gaan wêreldwyd steun vir sy uitwissingsoorlog teen Israel kry. Moenie sy ideologie van Jodehaat bevorder nie!

Verdraaide Skrifuitleg

Enige teorie of dogma wat in sekere opsigte van die fundamentele Bybelse waarhede afwyk, besorg altyd vir sy aanhangers groot probleme om die nodige skriftuurlike regverdiging vir hulle standpunte te kry. Hulle stuit gewoonlik teen onoorkomelike probleme, en as hulle sou weier om van hulle dogma af te sien, neem hulle die volgende twee uitweë:

·         Vervangingsteologie: Die Bybel word vergeestelik en sodoende van sy grondbetekenis beroof. Enige ander betekenis word dan op ‘n willekeurige wyse ooreenkomstig die vervangingsteologie in die betrokke teks ingelees. Ooreenkomstig hierdie gebruik kan heidene met verstrooide Israeliete vervang word, diere van die veld met swartmense, Israel met die kerk of met die blanke nasies van die Weste, wedergeboorte met verbondsluiting (doop of besnydenis), heiligheid of afgesonderdheid vir die Here met apartheid, ens.

·         Selektiewe aanvaarding van die Bybel: Soms word gedeeltes van die Bybel, selfs ook hele Bybelboeke, verwerp as dit met ‘n bepaalde dogma in stryd is. Die Bybel word dus nie as foutloos of onfeilbaar beskou, en die gesag daarvan ook nie altyd eerbiedig nie. Veral die briewe van Paulus en Lukas loop erg onder sommige Israelvisie kritici deur.

As gevolg van die talle onbybelse opvattings in die Israelvisie, moet hulle gereeld geskrifte die lig laat sien waarin moeilke tekste verklaar word deur dit óf te verdraai óf as foutief en as ‘n latere toevoeging tot die Bybel te beskou. Voorbeelde van sulke geskrifte is ds. G.J. Steenkamp se “Antwoorde op Bybelse probleembegrippe” en dr. N.A. Burger se “Nuwe antwoorde op Skriftuurlike kwelvrae.” Dr. Burger voel só beswaard oor wat hy in Lukas, Handelinge en in Paulus se sendbriewe lees dat hy baie daarvan as growwe verdraaiings en selfs leuens afmaak. Hy sê dat Paulus in Romeine 3:7 erken dat hy in sy aanbieding van die evangelie vir mense gelieg het.

Kom ons kyk kortliks na die gedeelte in Romeine 3. God se waarheid en volmaaktheid word hier teenoor die mens se leuenagtigheid en onvolmaaktheid gestel, daarom kan God in ‘n regverdige gerig met die mens tree (v. 4). In vers 5 word ‘n tipies menslike argument aangespreek: Ons moenie dink dat ons ongeregtighede die geregtigheid van God bewys nie. Israel moet dus nie onder die misleidende idee verkeer dat in sy onvolmaakte manier van godsdiensbeoefening, bloot omdat hy ‘n verbond met die Here gesluit het, alles nou goed en reg is nie – hy kan maar voortgaan en doen wat hy wil, God sal hom nie oordeel nie, want dan is Hy onregverdig. In vers 6 verwerp Paulus hierdie soort selfregverdiging en menslike argumentasie.

Vers 7 som die saak op: As die standaard van God se geregtigheid en waarheid deur my (enige persoon) se onvolmaaktheid en leuenagtigheid bevredig kan word, waarom word so ‘n onvolmaakte persoon dan nog geoordeel? Sommige mense meen dat omdat hulle verbondskinders is, hulle nou maar kan leef soos hulle wil – niemand kan hulle oordeel nie. Soos in vers 8 sê hulle: “Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom.” Paulus sê daar bestaan nie so iets nie, en die veroordeling van sulke bandelose en leuenagtige mense is regverdig.

Nog ‘n skreiende mistasting met skrifuitleg is die aanspraak dat geen baster van enige aard tot in die tiende geslag in die vergadering van die Here mag kom nie (vgl. Deut. 23:2). Die bepaling in hierdie teks het niks met bloedsuiwerheid te doen nie, maar was teen vermenging met die Moabiete en Ammoniete gemik oor wat hulle aan Israel gedoen het (Deut. 23:3-4). In Deuteronómium 23:7-8 word duidelik gesê dat ander nie-Israelse nasies soos die Edomiete en Egiptenaars nie as ‘n gruwel beskou moet word nie.

Die beskouing dat die swartes diere van die veld is en dat mense met dié diere kan verbaster, is ook irrasioneel. Daar is onoorbrugbare geestelike, biologiese en verstandelike verskille tussen mense en diere. Alle menslike rasse, inlsuitende swartes, behoort aan die spesie Homo sapiens (die denkende mens) en word duidelik van redelose diere onderskei. Biologiese vermenging tussen mens en dier is onmoontlik omdat hulle gene heeltemal verskillend en hulle bloedgroepe onverenigbaar is. Indien dierebloed in ‘n mens oorgetap sou word, sal hy antigene ontwikkel en sterf. Ook het die mens ‘n gees wat hom van die dier onderskei.

Indien daar soms in terme van menslike handelinge na diere verwys word, bied dit geen regverdiging om ‘n vergesogte teorie van mensagtige diere te bedink nie. Hierdie soort beeldspraak word selfs ten opsigte van die natuurlike skepping gebruik om ‘n besondere situasie uit te beeld, bv.: “…die berge en heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek en al die bome van die veld in die hande klap” (Jes. 55:12).

Hoewel alle menslike rasse tot dieselfde familie behoort, met dieselfde, onderling aanpasbare bloedgroepe, beteken dit nie dat die Bybel vermenging tussen almal van hulle aanmoedig nie. Handelinge 17:26 bevestig die feit dat die Here grense tussen mense van dieselfde bloed gestel het. Eerbiedig dit!

Buite-Bybelse profesieë

Daar word dikwels na profete en profetesse geluister wat drome en visioene gehad het. Hierdie openbarings word nie aan ‘n skriftoets onderwerp nie maar ongeverifieerd aan God toegeskryf. As gevolg hiervan geniet dit groot geloofwaardigheid. Wanneer ‘n godsdienstige groep na profete luister wat op openbarings van God se wil buite die Bybel staatmaak, word hulle mislei en ontaard spoedig in ‘n kultus. Hulle word dan blinde navolgers van ‘n feilbare mens. Dit skep vir die duiwel ‘n handige kanaal vir misleiding, want op hierdie manier kan hy die Woord van God verklaar, verdraai, omseil en aanvul soos hy wil.

Selfs al het ‘n “profeet” ook ‘n sterk Christelike getuienis, kan hy nie op nuwe openbarings buite die Bybel aanspraak maak nie, want dan probeer hy om by die Bybel aan te vul. Onfeilbare, goddelike openbarings oor dit wat die Here aan die mens bekend wil maak, het in die jaar 95 op Patmos opgehou toe Johannes die boek Openbaring geskryf het. Die Bybel kan nie verder aangevul word nie, omdat dit die volle raad van God vir die mens bevat (Heb. 1:1; Hand 20:27). As ons inligting oor die toekoms wil hê, moet ons Bybelse profesieë bestudeer, verklaar en verkondig – nie drome, visioene of tale wat nuwe openbarings buite die Bybel bevat nie.

Daar is oral in die wêreld mense wat daarop aanspraak maak dat hulle steeds deur drome en visioene regstreekse, buite-Bybelse boodskappe van die Here af ontvang. Die Here het lankal teen sulke arrogansie gewaarsku: “Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my naam vals profeteer met die woorde: Ek het gedroom, ek het gedroom!” (Jer. 23:25). Talle sulke valse profesieë is die afgelope aantal jare uitgespreek, en het glad nie uitgekom nie. “As die profeet in die naam van die Here spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die Here nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie” (Deut. 18:22).

Hierdie waarskuwings is gerig in ‘n tyd toe daar nog openbarings deur profete was, omdat die Bybel nog nie klaar geskryf was nie. Ons leef egter al vir byna tweeduisend jaar in ‘n bedeling waarin alles wat die Here vir die mens se geestelike behoeftes en sy regte profetiese verwagting oor toekomstige gebeure wou openbaar, ten volle in die Bybel opgeneem is. In die lig hiervan het ons net een opdrag: “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig” (2 Tim. 4:2). Daar is nêrens ‘n opdrag dat ons drome en visioene moet verkondig nie. Die sogenaamde moderne profete is dus heeltemal uit pas met die Bybel. As hulle enige uitsprake oor die hede of toekoms wil maak, moet hulle Bybelse profesieë bestudeer en net dit aan mense verkondig.

God oordeel deur Jesus Christus

In die Ou Testament het God dikwels sy oordele oor groepe verharde sondaars uitgestort sodat hulle tydgenote, sowel as almal wat ná hulle sou leef, moes weet dat dit vreeslik is om te val in die hande van die lewende God (Heb. 10:31). Met die koms van Jesus het die wêreld ‘n nuwe bedeling in God se raadsplan betree. Jesus Christus is deur die Vader gestuur om sy reddende genade aan Israel én die hele mensdom te verkondig, self aan die kruis die prys vir alle mense se sondes te betaal, en verder ook om almal te oordeel wat Hom nie as hulle Saligmaker wil aanvaar nie. Hy is nie net die Verlosser nie, maar ook die Regter van die wêreld. God se oproep tot die bekering van alle mense op aarde, asook sy waarskuwing van die komende oordeel oor diegene wat sy saligheidsplan verontagsaam, word só deur Paulus verduidelik:

“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul móét bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31).

Die enigste oordeel wat die Here Jesus in Nuwe Testamentiese tye voltrek het, was die oordeel en gevolglike internasionale verstrooiing van Israel omdat hulle Hom as Messias verwerp het (Matt. 23:37-38; Luk. 19:41-44; 21:20-24). In die jaar 70 het die Romeine Jerusalem ingeneem en verwoes en die oorlewende Jode as slawe verkoop Sommiges het self na ander lande gevlug. Dit was net ‘n voorlopige oordeel oor Israel, want hulle sal in die eindtyd weer deur die Here geoordeel word.

Die oordeel oor die ongelowige nasies én individue sal eers ná die kerkbedeling plaasvind, in die tyd wat in die Bybel as die “groot verdrukking” en “die dag van die Here” beskryf word. Die Here Jesus het gesê: “Dan sal daar ‘n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie... En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word… en die kragte van die hemele geskud word, En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:21-22, 29-30). Die groot verdrukking vind dus direk voor die wederkoms van die Here Jesus plaas.

Jesaja sê: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg” (Jes. 13:9). Dit sal Christus wees wat in hierdie tyd, kort voor sy wederkoms, die ongelowige wêreld sal oordeel. Weens al die aardbewings wat dorpe en stede in puin sal lê (Op. 6:12; 16:18), sal die ongelowiges paniekbevange na die berge toe hardloop en vir die berge en rotse sê: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam, want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

Omdat die ware gelowiges, soos in die tyd van Noag en Lot, nie vir die oordele van God bestem is nie, sal hulle dan weg wees. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). In Lukas 21:20-21 het die Here Jesus ook voorsiening vir die ontvlugting van die gelowige Israeliete uit die vernietiging van Jerusalem gemaak. Hulle het na Pella oorkant die Jordaan gevlug en dus nie in die oordeel van die Here gekom nie. Dieselfde beginsel geld vir die ontvlugting uit God se oordele kort voor die wederkoms van Christus, omdat ons nie vir God se toorn bestem is nie (1 Thess. 5:9). Ons kom nie in die oordeel nie, omdat ons oorgegaan het uit die duisternis in die lig (Joh. 5:24; 1 Pet. 2:9).

In die lig van die profetiese woord, wat aandui dat die Here eers ná die kerkbedeling en die wegvoering van die gemeente tot oordeel sal oorgaan, is dit heeltemal onbybels om nou, in hierdie tyd, God se oordele oor lande en regerings aan te kondig. Die oordele van die verdrukking sal wél kom, en dan sal die ongeredde Israel ook deel daarvan wees. “Dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7).

Ons leef tans in ‘n geestelik donker wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19), en ons opdrag is om te skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). As gevolg van hulle eie sondigheid kies die meerderheid ongeredde mense vir hulleself regerings wat nie van die Here af is nie en wat ook nie sy wil doen nie. Dit is die rede waarom Christene verdrukking in die wêreld het (Joh. 16:33). Ons word egter gewaarsku dat ons nie deur ons eie, dwase optrede ons verdrukking in hierdie wêreld erger moet maak nie (1 Pet. 4:15-16). Dit geld ook vir die Boerevolk, wat veral nie in hierdie dae onbesonne dinge moet doen wat hulle hul vryheid kan kos nie.

Die verbondsvolk

Die werklike verbondsvolk, Israel, is die biologiese afstammelinge van al 12 die stamme van Israel. Hulle word die verbondsvolk genoem omdat God met hulle voorvaders baie spesiale verbonde gesluit het wat ook die ewige bewoning van die land Israel insluit. Nog nooit in die geskiedenis van Israel as ‘n volk was daar die geringste twyfel oor die geldigheid van die onvoorwaardelike beloftes wat die Here met die stigters van die volk gesluit het nie. God self is die waarborg vir die Abrahamitiese verbond (Gen. 15:18), die Kanaänitiese verbond (Num. 33:51–34:15) en die Davidiese verbond (2 Sam. 7:12-16; Ps. 89:3-4, 34-37) wat Israel se ewige besitreg oor die land en die bestendigheid van die troon van Dawid bevestig.

Israel se ballingskap uit die land as gevolg van ongeloof kan nie hierdie verbonde ongeldig maak of op ander volke oordra nie. Selfs al het Israel ontrou geraak, bly die Here ‘n getroue verbondsgod wat hulle weer na hulle land sal herstel. ‘n Plegtige belofte hieroor is is lank voor Israel se Assiriese en Babiloniese ballingskap en hulle internasionale verstrooiing ná die verwerping van die Messias gemaak:

“Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die Here hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die Here” (Lev. 26:44-45).

Hierdie verbonde is nie op enige ander volk oordraagbaar nie, gevolglik kan net die werklike afstammeling van die 12 stamme na Israel terugkeer. Die Here het hulle weens ongeloof uit die land laat verstrooi, en dit is ook net deur sy ingryping en voorsiening dat hulle nou, in die eindtyd, weer na hulle land herstel word: Jeremia sê: “Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ‘n herder sy kudde” (Jer. 31:10). Die feit dat Israel steeds ongered is deurdat hulle as volk nog altyd die Messias verwerp, diskwalifiseer hulle nie om na hulle land teruggebring te word nie. Die Here gaan hulle hier in groot benoudheid bring sodat hulle Hom sal soek:

“Die huis van Israel het vir My skuim geword… Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt… en julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (Eseg. 22:19-22).

In Hosea 5:15 sê die Messias dat Israel Hom in die uur van hulle nood sal soek. Dit sal in die tyd van benoudheid vir Jakob wees, wat op die groot verdrukking dui. Paulus bevestig in Romeine 11:25-26 die feit dat Israel se nasionale geestelike herstel eers in die eindtyd sal wees, wanneer die volheid van die heidene (dit is die geestelike oes onder die nie-Joodse volke) ingegaan het. Paulus sê: “Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend.” Dan sal die hele oorblyfsel van Israel in Jerusalem tot bekering kom, want die Messias kom na die Olyfberg toe terug (Sag. 14:4-5). Die Here beskryf hulle nasionale redding in Jerusalem só:

“Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem” (Sag. 12:10-11).

Ná die geestelike herstel van die volk sal die Messias die vervalle troon van Dawid weer in Jerusalem herstel: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17). Hierdie troon is beslis nie na Engeland oorgeplaas, soos deur die moederorganisasie van die Israelvisie beweer word nie. Dié troon het in Jerusalem in onbruik geraak as gevolg van Israel se afvalligheid, en daar sal dit weer deur die Messias herstel word.

In die Messiasryk ná die wederkoms sal Jesus Christus van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem regeer:

“In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).

Omdat Satan in daardie tyd gebind sal wees, sal hy die nasies nie tot haat, rebellie, oorlogvoering en ander sondes kan aanhits en verlei nie. Hulle sal spontaan die Here se guns in Jerusalem soek, asook dié van sy volk Israel, en in sy weë wandel:

“So sê die Here van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die Here om genade te smeek en die Here van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek. So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:20-23).

Net soos dit was sedert die herstel uit die Babiloniese ballingskap tot vandag toe, sal die volk Israel ook “Jode” genoem word. Lede van die nasies sal die slip van ‘n Joodse man gryp en met hom saamgaan, omdat die seën van die Here ryklik op die geestelik herstelde Jodedom (Israel) sal rus.

Seën hulle

Ons opdrag is om die nageslag van Abraham in die 12 stamme te seën (Gen. 12:3). As ons hulle regtig geestelik tot seën wil wees, moet ons hulle daarop wys dat die Messias die straf vir hulle sondes betaal het: “Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is” (Jes. 40:1-2). Sy kan rus vir haar siel in Hom vind, asook die einde van haar omswerwinge oor die aarde.

Ons moet Israel liefhê en in hierdie dae van groot stryd en aanvegtinge teen hulle om die vrede van Jerusalem bid: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe” (Ps. 122:6). Hierdie vrede sal net neerdaal wanneer die Vredevors gekom het. Sorg dat jy nie onder die Jodehaters tel nie, want dan bring jy volgens Génesis 12:3 ‘n vloek oor jouself en jou volk. Volgens Sagaria 14:12-13 wag daar absolute verdelging op die vyande wat teen Jerusalem sal optrek. Die Here sê:

“Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).

Die vyande van Israel en die Jodedom is ook die vyande van God.

Een vraag moet nog beantwoord word, en dit is waarom ons soveel erkentelikheid, dank en goeie trou aan Israel verskuldig is, selfs in hulle geestelik vervalle toestand? In Romeine 11 sê Paulus oor Israel:

“Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:11-12).

Omdat hulle die Messias verwerp het, het die opdrag gekom om die evangelie na die heidendom toe uit te dra. Ons is dus die ontvangers van hulle geestelike erfenis, en op ons rus die plig om die God van Abraham, Isak en Jakob só oortuigend deur die Messias te dien, dat ons Israel jaloers sal maak. Hulle sal nog ‘n verdere bron van seën vir ons wees nadat hulle as ‘n volk gered is en ons saam met hulle in die Messiasryk in al die seëninge van die Here sal deel. Wat ‘n vooruitsig!

Die regte perspektief

Boere-Afrikaners moet as ‘n saak van dringendheid hulle geestelike perspektief regkry, want dit is van die allergrootste belang. Té lank was ons in kerke waarin vervangingsteologie verkondig is deurdat die kerk as die “geestelike Israel” in die plek van Israel gestel is. In werklikheid is die Israelvisie maar net ‘n verdere voortsetting van hierdie dwaling, en dink dié mense dat hulle die tien stamme van Israel is. Dit is van alle waarheid ontbloot. Ons voorvaders was Germaanse volke wat van Jafet afgestam het, en hulle het in Europa gewoon lank voordat die paar duisend Israeliete in die 8ste eeu v.C. na Assirië weggevoer is. Die Israeliete en die Arabiere is Semitiese volke wat van Sem afstam, daarom is Noag ons naaste gemeenskaplike voorouer met hulle.

Alle volke op aarde, insluitende die nageslag van Gam, is die ontvangers van die evangelie van verlossing, want dit is vir elke volk en taal en stam en nasie op aarde bedoel. Die vraag is net wat ons met die evangelieboodskap gedoen het? As ons dit verdraai of verwerp het, is ons nie weergebore nie en sal ons die koninkryk van God nie sien nie (Joh. 3:3). Oor sulke mense rus die toorn van God, wat binnekort in die groot verdrukking oor die hele wêreld uitgestort sal word. Sorg dat jy dit sekerlik in Christus sal ontvlug!

Wanneer jy wél gered word, word jy nie ‘n Israeliet nie, daarom hoef jy nie jou tassie te pak en Israel toe te gaan nie. Jy word net ‘n geredde Boere-Afrikaner aan wie die Here in hierdie land ‘n plek onder die son gegee het. Die gelofte wat ons voorvaders met die Here gesluit het, is vir ons ‘n verdere anker in hierdie land waar ons bly, maar dit het niks met Israel se verbonde met die Here te doen nie. Ons is in ‘n genadeverbond aan die Here Jesus verbonde, en Hy sal met ons gaan, waar op aarde ons ook al verkies om te woon.

Die wêreld stuur onwrikbaar op ‘n tyd van goddelike toorn en oordele af, asook die skrikbewind van die Antichris. In ‘n tyd soos hierdie kan ons die volgende teks ook op onsself toepas: “Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ek self uit; en dit betref die hele aarde. En sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die Here; maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan” (Jer. 45:4-5).

Ons moet net die Here Jesus voorop stel en Hom soek met ons hele hart. Alle ander sake is bysake, soveel te meer as dit dalk tydelike en verganklike dinge is wat ons nastreef. Maak seker dat jy ‘n plek in die koninkryk van God het wat binnekort geopenbaar gaan word, aan watter volk jy ook al behoort.

Watchman Nee 27