Print

Israelvisie volhard met hulle dwalings

Written by Prof Johan Malan.

Die grootste beswaar teen die Israelvisie is die ooglopende subjektiwiteit wat hulle openbaar in hul pogings om 'n vooropgestelde teorie te verkondig. Hulle ignoreer die volgende objektiewe feite asof hulle nie bestaan nie, bloot net omdat dit hulle teorie verkeerd bewys:

  • Die groot volksverhuisings uit Israel na Juda gedurende die 250 jaar van die verdeling van Israel in twee volke word gerieflikheidshalwe "misgekyk." Dit het nie net tot die aansienlike verswakking van Israel se tienstammeryk gelei nie (2 Kron. 11:14-16; 13:18; en 15:9), maar tot die feit dat Juda so dramaties uitgebrei het dat hulle weer verteenwoordigend van al 12 die stamme was. Dit is 'n onbetwisbare historiese feit.
  • Die Assiriese ballingskap van Israel en die latere Babiloniese ballingskap van Juda na dieselfde gebied wat intussen deur die Babiloniërs oorgeneem is, het vir 'n lang tyd nie na verdere volksverhuisings gelei nie, omdat die ballinge deur hul vyande ingeperk was (2 Kon. 17:22-23; Jer. 50:33; Eseg. 2:3 en 3:15). Hier het 'n verdere samevloeiing tussen die 10 en die 2 stamme plaasgevind.
  • Die herstel uit die Babiloniese ballingskap het baie beslis Israeliete uit al 12 die stamme behels. Van toe af was Jerusalem die plek van samekoms vir volksvergaderings van die hele Israel (Esra 2:70; 3:1-2; 6:21; 7:7-13; 10:1-5). Formele erkenning word aan die hereniging van die twee volke gegee deur hulle van hierdie punt af almal saam as "Jode" en ook as "Israeliete" te beskryf (Esra 6:8,16,17,21; Neh. 1:6 en 4:1).
  • Eers met die herstel van Israel uit die ballingskap is die streng beperkings op hulle in Babilonië (wat die vroeëre Assirië ingesluit het) opgehef. Diegene wat nie na hulle eie land teruggekeer het nie, het van toe af na verskeie ander lande in die Midde-Ooste en Europa begin verhuis. As gevolg van oorloë en spanning in Israel self het daar uit dié land ook groepe mense na ander lande getrek. Dit was egter net klein groepies Jode wat verstrooid geraak het, en daar is geen bewyse dat hulle ooit enige land oorgeneem en ander volksname gekry het nie. Behalwe vir 'n minderheid wat met nie-Jode ondertrou en sodoende hulle nasionale identiteit verloor het, het die ander etnies suiwer gebly, kontak met mekaar gehou en sinagoges gebou waar hulle gereelde byeenkomste gehou het. Baie van hulle het kontak met die Jode in Israel gehou en dikwels ook feeste daar gaan bywoon. Verskeie van hulle het in Jerusalem agtergebly en weer daar gevestig. Hoewel hulle ander tale (veral Grieks) aangeleer het, het hulle steeds as Jode of Israeliete bekend gestaan. In Handelinge 2:5-7 lees ons van sulke Jode uit verskillende lande wat die ortodokse Joodse Pinksterfees in Jerusalem bygewoon het.
  • Met Paulus se sendingreise na verskeie plekke in Klein Asië en Europa het hy sulke groepe Jode aangetref. Hy het eers op Saterdae in die sinagoges met hulle gepraat en hom daarna tot die nie-Jode gewend, met wie hy Grieks gepraat het (Hand. 13:1-52). Uit Handelinge 13:5,16,17 is dit duidelik dat Paulus sy volksgenote beide as "Jode" en "Israeliete" aangespreek het. Daar was toe geen sprake meer van die vroeëre verdeling nie, en beslis ook geen "verlore" stamme van Israel nie.
  • Daar is geen bewyse dat die Germaanse volke van Europa, asook die Romane, Kelte en Anglo-Saksiërs, van Semitiese (Israelse) oorsprong is nie. Hulle was voor die Assiriese ballingskap van Israel reeds in Europa, en die name van hulle stamvaders staan in Genesis 10 as die seuns van Jafet (waaronder ook Gomer). Daar is geen bewyse van enige Hebreeuse of Aramese beïnvloeding in hulle tale of kulture nie, ook nie van die Ou Testamentiese Israelse godsdiens nie. Daar is ook geen DNA bewyse van biologiese verwantskap nie. Daar was trouens 'n sterk weerstand teen die Jode, soos onder meer uit die beleid van die Griekse en Romeinse ryke geblyk het. Godsdienstige invloede uit die Midde-Ooste het eers tydens die sendingreise van Paulus groot afmetings aangeneem, en dit was nie voor vroeg in die vierde eeu n.C. dat die Christendom amptelike erkenning in Europa verkry het nie.
  • Met die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. het die internasionale verstrooiing van Israel eers in alle erns begin. Steeds het die meeste Joodse groepe hulle volksidentiteit in hulle gasheerlande gehandhaaf en Saterdae in sinagoges byeengekom. Die vervolging van Jode was daarvoor verantwoordelik dat hulle saamgestaan het nie met hulle vyande vermeng het nie (Deut. 28:64-65). Dit is die rede waarom Israelse gemeenskappe deur die eeue heen in alle lande identifiseerbaar was. Juis dit maak die eindtydse herstel na hulle eie land moontlik, want "Hy [die Here] wat Israel verstrooi het, sal hom vergader" (Jer. 31:10). Hoe kan die Here Israel na hulle eie land herstel as hulle nie meer bewustelik Israeliete is, met die bewussyn dat Israel hulle land van herkoms is nie? Juis omdat hulle etniese bewussyn onder die nasies behoue gebly het, kan die Here sê: "Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel... en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeel wees nie" (Eseg. 37:21-22). Die Here maak tot aan die einde 'n duidelike onderskei tussen "Israel" en "die nasies waarheen hulle getrek het." Hy bevestig ook die feit dat Israel in 'n stadium uit twee koninkryke bestaan het, maar dat hulle slegs as een, verenigde volk herstel sal word. Hulle kon dus onmoontlik nie intussen baie nasies geword het nie. Dit sal fisies onmoontlik wees om al die blanke nasies van Europa in Israel te hervestig, en in elk geval is dit nie hulle land van herkoms nie. Die enigste manier waarop die Here die ander nasies na Israel sal bring, is om daar met hulle in die gerig te tree en hulle te straf omdat hulle Israel gehaat, verdruk, verstrooi, beveg en hulle land verdeel het (Joël 3:1-2; Sag. 12:3; 14:2-3,12-13).
  • Volgens Romeine 11:25-27 sal die herstelde volk van Israel eers in die eindtyd, met die wederkoms van die Messias, gered word. Dit sal gebeur nadat die volheid van die heidene in die koninkryk van God ingegaan het. Indien Israel as volk in daardie stadium eers gered word, wie is dan die heidene [die nie-Joodse volke] wat gedurende die kerkdispensasie gered word? Dit is almal wat nie Israel is nie, m.a.w. die afstammelinge van Jafet en Gam, asook Sem se afstammelinge wat nie deel van die volk Israel is nie (bv. die Arabiere). Net 'n oorblyfsel uit hierdie volke sal gered word, soos wat daar ook net 'n klein oorblyfsel van Israel gered sal word (Rom. 9:27).