Print

Ontvlugting na Petra, die Rotsstad

Written by Prof Johan Malan.

Petra, wat “Rots” in Grieks beteken, is ‘n verlate stad suid van die Dooie See in Jordanië. In die antieke geskiedenis het dit as Seïr bekend gestaan, wat die hoofstad van Edom was. In later eeue het die Nabateërs in die plek van die verdryfde Edomiete hier gewoon en hulle hoofstad Petra genoem. Petra is in ‘n lang skeurvallei geleë wat as die Kidrondal deur Jerusalem loop en daarna ook deur die Dooie See en verder suid. Waarskynlik het ‘n groot aardbewing en vulkaniese aktiwiteit hier plaasgevind en die aarde oopgeskeur sodat ‘n canyon met steil klowe en kranse gevorm is. Die oorblyfsels van die skouspelagtige stad bestaan uit tempels en grafkelders wat uit die groot formasies sandsteenrots gekap is. Daar is net ‘n nou skeur wat toegang tot die canyon bied, en dit kan maklik geblokkeer en afgesluit word. Dit is dus ‘n veilige ontvlugtingsplek.

‘n Indrukwekkende gesig begroet die reisiger wanneer die veelkleurige sandsteenformasies van die mees unieke en beroemdste spookdorp in die wêreld voor hom opdoem. Verder is daar die misterie van die stad se geskiedenis, asook die verwagting dat dit gedurende die groot verdrukking, volgens Openbaring 12:6, vir 3½ jaar lank ‘n ontvlugtingsplek vir ‘n oorblyfsel in Israel sal wees wanneer die Antichris hulle as volk sal probeer uitwis. Petra se rol in die geskiedenis is dus, ten spyte van sy absolute verlatenheid, nog nie verby nie.

Suid van die nou kloof wat toegang tot Petra bied, is daar ‘n vallei wat tussen 1½ en 5 kilometer breed is. Omtrent 3 kilometer suid van die toegang tot Petra is die Fontein van Moses (Ain Musa). Moses het die Israeliete in hulle trek deur die woestyn deur hierdie vallei tot by die poort van Petra gelei. Van daar af wou hulle langs Petra verbytrek op pad na die Beloofde Land, maar die vyandiggesinde Edomiete het hulle versoek twee keer geweier.

Jakob en Esau

Die intense vyandskap tussen Israel en Edom het by die geskiedenis van Jakob en Esau begin, want Esau is die stamvader van die Edomiete. In Génesis 25 lees ons van ‘n tweeling waaraan Rebekka geboorte gegee het: “En die eerste is gebore – rooi, geheel en al soos ‘n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem. En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem... En die seuns het opgegroei: Esau het ‘n ervare jagter geword, ‘n man van die veld; maar Jakob was ‘n vredeliewende man wat in tente gewoon het... En Jakob het ‘n kooksel klaargemaak, en Esau het moeg uit die veld gekom. Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem. En Jakob antwoord: verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan?... En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag” (Gen. 25:25-34).

Esau het ‘n rooierige voorkoms gehad, en hy het ook sy eersgeboortereg vir rooi lensies verkoop, daarom het hulle hom Edom genoem, wat Rooi beteken. Met die hulp van sy ma het Jakob die seën van die eersgeborene by Isak gekry, wat in werklikheid reeds deur Esau aan hom verkoop is. Esau was egter woedend hieroor en het sy pa gevra om hom ook te seën. Isak het vir hom gesê: “Van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk” (Gen. 27:40). In die volgende vers lees ons: “En Esau was Jakob vyandiggesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak.”

In Génesis 36:8-9 staan daar: “En Esau het gaan woon in die gebergte Seïr. Esau, dit is Edom. Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die gebergte Seïr.” Esau het inderdaad van sy swaard geleef, soos Isak aan hom gesê het. Hy het van Hebron na Seïr, die latere Petra, getrek en die stad, asook die landstreek wat daarna as Edom bekend gestaan het, in besit geneem. Eers moes hy die reuse wat daar gewoon het, verslaan: “Die Emiete het tevore daarin gewoon, ‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete... Ook het die Horiete tevore in Seïr gewoon; maar die kinders van Esau het hulle uit hul besitting verdrywe en voor hulle uit verdelg en in hulle plek gaan woon” (Deut. 2:10,12).

Al wat ons tot Esau se krediet in Génesis 32 en 33 lees is dat hy Jakob en sy gevolg vriendelik ontvang en aan hulle vrye deurtog na Kanaän gegee het. Esau word egter nie onder die geloofshelde van die Ou Testament genoem nie. Ons word eerder teen sy optrede gewaarsku: “Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir een spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het. Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer” (Heb. 12:16-17). Esau het sy ewige erfenis vir tydelike gewin verruil en sy lewe het in goddeloosheid geëindig.

Soos wat Esau “Edom” genoem is, is Jakob “Israel” genoem. Elkeen het die hoof van ‘n groot nasie geword.

Vyandigheid van die Edomiete

Die goddelose en aggressiewe geaardheid van Esau het ook die belangrikste karaktertrek van die Edomiete geword. Hierdie volk word só in die Bybel beskryf:

Hulle was ‘n oorlogsugtige volk. Soos hulle stigter, Esau, het hulle van hul swaard geleef en ander, sterker volke oorwin en uitgedelg (Deut. 2:10,12).

Hulle was afgodsdienaars, soos in 2 Kronieke 25:14 beskryf. Esau se geloof was baie vlak en hy het nie sy volgelinge geleer om in die God van sy vader Isak te glo nie. Hulle het gevolglik ander gode begin dien, soos in die oorblyfsels van talle offeraltare in Petra gesien kan word. Priesters het op die altare op hoë plekke jong dogters geoffer en hulle as van die kranse af op die stad daaronder gestrooi.

Hulle was ‘n hoogmoedige en arrogante volk. Die Here sou hulle ook as gevolg hiervan uit hulle vesting neerwerp en dit ‘n verlate plek maak: “Jou vreeslikheid het jou bedrieg, die vermetelheid van jou hart, o jy wat woon in die rotsklowe... Al maak jy jou nes so hoog soos die arend – daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die Here. So sal Edom dan ‘n voorwerp van verbasing word; elkeen wat by hom verbytrek, sal hom verbaas en spot oor al sy plae. Soos die omkering van Sodom en Gomorra met hulle bure, sê die Here, sal daar niemand woon en geen mensekind daar vertoef nie” (Jer. 49:16-18).

Hulle was ‘n wraaksugtige volk. In Eségiël 25:12-14 sê die Here dat Edom wraaksugtig teen Israel gehandel het, daarom sal Hy sy toorn deur Israel op Edom uitstort om hulle uit te roei.

Daar is ‘n lang geskiedenis van uiterste vyandigheid wat Esau se afstammelinge teenoor Israel geopenbaar het. Tydens Israel se swerftogte deur die woestyn wou hulle deur die Edomiete se grondgebied trek: “Moses het uit Kades boodskappers na die koning van Edom gestuur: So sê jou broer Israel... Hier is ons nou in Kades, ‘n stad op die grens van jou grondgebied. Laat ons tog deur jou land trek: ons sal nie deur die lande of wingerde trek nie... ons sal die koningsweg hou; ons sal nie regs of links uitdraai nie, totdat ons deur jou grondgebied getrek het. Maar Edom antwoord hom: Jy sal deur my nie trek nie, anders sal ek jou met die swaard tegemoettrek... So het Edom dan geweier om Israel toe te laat om deur sy grondgebied te trek” (Num. 20:14-21).

Die Edomiete het aangehou om Israel te beveg. Vierhonderd jaar later het Saul volgens 1 Samuel 14 teen die Edomiete geveg en hulle oorwin. Na nóg tweehonderd jaar, tydens die bewind van Jósafat, het die Moabiete, Ammoniete en die Edomiete saamgespan om alle Jode in die land om te bring. Hulle het met ‘n groot oormag teen Jerusalem opgetrek en op die Olyfberg gekamp, met die bedoeling om die volgende dag deur die Kidronvallei te trek en die stad aan te val. Die Edomiete van Seïr af het die leiding in die koalisie geneem.

Die Here het vroeër deur Jahásiël die volgende boodskap aan sy volk gestuur: “Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Jósafat! So sê die Here aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God” (2 Kron. 20:15). “Jósafat” beteken “God het geoordeel.” Die Here het direk tot die stryd teen Juda se vyande toegetree. Hy het ‘n verwarring onder die vyande bewerk sodat hulle almal mekaar doodgemaak het:

“Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp. En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, lê hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie” (2 Kron. 20:23-24). Ná hierdie groot oorwinning is die Kidronvallei ook die dal van Jósafat genoem.

Ná dié slagting is daar ‘n geweldige groot buit deur Juda ingesamel: “Daarop het Jósafat en sy manskappe gekom om die buit in te samel en hulle het by hulle ‘n menigte goed en klere en kosbare voorwerpe gekry, en het soveel vir hulle gebuit dat hulle dit nie kon wegdra nie; en hulle was drie dae lank besig om die buit in te samel, want dit was groot” (2 Kron. 20:25).

Joël verwys na die Here se vernietiging van Israel se vyande onder die aanvoering van die Edomiete as ‘n voorbeeld, of tipe, van wat by die slag van Armageddon sal gebeur: “Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Jósafat; want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom... want naby is die dag van die Here in die dal van beslissing” (Joël 3:12,14).

Weer eens sal hulle verward raak en mekaar doodmaak: “En dit sal die plaag wees waarmee die Here die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer terwyl hulle nog op hul voete staan... In dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander. En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van al die nasies rondom sal ingesamel word: goud en silwer en klere – ‘n groot hoeveelheid” (Sag. 14:12-14).

Ná die tyd van Jósafat het die Edomiete herstel en hulle eeue-oue vyandigheid teenoor Israel voortgesit. Volgens Psalm 137:7 het Edom hulleself grootliks verbly toe die Babiloniërs Jerusalem oorwin en die stad gedeeltelik verwoes het. Hulle het die Babiloniërs aangemoedig om die stad heeltemal af te breek sodat dit nie weer opgebou kan word nie. Die psalmis sê: “Here, bring in herinnering vir die kinders van Edom die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!” Tydens die Babiloniese ballingskap het Edomiete voortgegaan om Jode wat in Jerusalem en omstreke agtergebly het, aan te val en te beroof.

Die Edomiete is later uit Seïr verdryf. Die Nabateërs het toe hulle hoofstad in Seïr ingerig en dit Petra genoem. Tydens die Griekse ryk het hulle twee groot aanvalle op hulle afgeslaan, maar tydens die Romeinse ryk het hulle self in die omringende Arabiese wêreld verstrooid geraak. Petra het toe ‘n verlate wildernis geword wat van geslag tot geslag nie deur mense bewoon is nie, maar net deur uile, kraaie en wilde diere, soos wat die Here in Jesaja 34 gesê het. Hierdie toestand duur al baie eeue lank voort, en die Edomiete het self ook nie weer die stad herbou nie.

Die Idúmeërs en die Herodes-familie

Net voor en tydens die Nuwe Testamentiese tyd sou die Edomiete steeds ‘n baie ondermynende rol in Israel speel. Iduméa is die Griekse naam, soos in die Hellenistiese tyd gevorm, van die Hebreeuse Edom. Van toe af is daar na die Edomiete ook as Idúmeërs verwys. In 125 voor Christus is die Idúmeërs deur Johannes Hirkanus verslaan, en baie van hulle is gedwing om hulle te laat besny en sodoende die Joodse geloof aan te neem. Onder hulle was daar gewillige handlangers van die Romeinse Ryk wat maar té gretig was om te help om die Jode te onderdruk. Die mees prominente familie onder die Idúmeërs was dié van Herodes die Grote.

Nadat Herodes se pa, Antipater, in 43 voor Christus vermoor is, het Herodes in sy plek koning oor die Joodse gebiede geword. Die Romeine het hierdie posisie aan hom toegeken. Herodes was ‘n wreedaard wat selfs van sy eie vroue en kinders laat vermoor het. Om die guns van die Jode te wen, het hy vir hulle die tempel in Jerusalem laat bou. Dit het as die tempel van Herodes bekend gestaan. Die Edomiet, Herodes, het die Joodse kindermoord gelas waarin alle seuntjies onder die ouderdom van twee jaar vermoor is in ‘n poging om Jesus om die lewe te bring. In Mattheus 2 word vertel hoe ontsteld Herodes was toe hy by die wyse manne gehoor het dat die Koning van die Jode in Israel gebore is. Hy het dit as ‘n bedreiging vir sy koningshuis gesien en wou as gevolg daarvan vir Jesus doodmaak.

Herodes Antipas, een van Herodes die Grote se opvolgers, het Johannes die Doper in die tronk laat onthoof. Pontius Pilatus het ook vir Jesus na Herodes gestuur om jurisdiksie te beoefen in die saak waarin die Jode Hom aangekla het. Dit was in hierdie Edomiet se mag om Jesus vry te spreek as hy wou, maar ons lees in Lukas 23:11-12: “En nadat Herodes saam met sy soldate Hom met veragting behandel en bespot het, werp hy Hom ‘n blink kleed om en stuur hom terug na Pilatus. En Pilatus en Herodes het op daardie dag goeie vriende geword.” Hulle vriendskap was op die gemeenskaplike verraad teen Jesus gebaseer. Dit was die tipies Edomitiese gees wat baie mense op Esau se pad van sonde en vyandskap teenoor Israel en sy God laat wandel het.

Verkiesing en verwerping

God se verkiesing van Jakob en sy verwerping van Esau het niks met predestinasie te doen nie, maar is gegrond op sy voorkennis oor wat hulle afstammelinge sou doen. In Maleági 1:2-3 staan daar: “Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die Here. Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte ‘n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee.” Esau en sy mense het self verkies om nie die Here te dien nie.

Ten spyte van die lotgevalle van die Edomiete en Israeliete het individuele lede van dié twee volke nog steeds die keuse gehad of hulle die Here of die duiwel wou dien. Die Here het in baie Israeliete wat Hom nie wou dien nie, geen behae gehad nie en hulle in die woestyn neergeslaan (1 Kor. 10:5). Die meeste van hulle het hulle Messias, Jesus, tot hulle eie ondergang verwerp. Hierteenoor was daar selfs ‘n aantal Edomiete onder die volgelinge van Jesus, want Hy is geen aannemer van die persoon nie: “En Jesus het met sy dissipels teruggegaan na die see toe, en ‘n groot menigte het Hom gevolg uit Galilea en Judéa en Jerusalem en Iduméa en van oorkant die Jordaan af” (Mark. 3:7-8). Individue word nie op grond van hulle voorvaders se dade aangeneem of verwerp nie, maar op grond van hulle eie geloof of ongeloof in die Here Jesus. Volke se lotgevalle word egter tot ‘n groot mate deur goddelose leiers en regerings beïnvloed. In dié geval ly die gelowige minderheid en word dikwels deur die afvallige meerderheid vervolg.

Jakob, die linie waaruit Jesus gebore is, het Esau se eersgeboortereg gekry toe Esau dit verag het. Uit Esau se nageslag was daar talle wraaklustige vyande van Israel en spesifiek ook van Jesus self. As gevolg hiervan het die Edomiete die Here se oordele oor hulleself gehaal. Talle van hulle het met afstammelinge van Ismael, Abraham se seun by ‘n Egiptiese slavin, getrou en sodoende met Israel se ander vyande vermeng geraak. Hulle is vandag nog as lede van verskillende Arabiese volke, wat onder andere van Ismael en Esau afstam, met ‘n haat- en moordveldtog teen Israel besig.

Die Here het geregtigheid laat geskied toe Hy die ongelowige Esau se eersgeboortereg aan Jakob gegee het. Hy sal ook geregtigheid laat geskied as Hy Edom se verlate rotsvesting, Petra, in die groot verdrukking as ‘n skuilplek vir voortvlugtende Jode gebruik. Edom is weens hulle afgodediens en rebellie teen God as ‘n selfstandige volk deur die Here verdelg. Dit is die rede waarom hulle eens veilige stad in die berge ‘n spookdorp geword het. Hier, in die verlate Negef-woestyn, naby aan Israel se grens, sal die Here na alle waarskynlikheid ‘n oorblyfsel van sy volk teen die aanslae van die Antichris en sy anti-Israelse magte beskerm.

Eindtydse benoudheid oor Israel

Israel se verwagte vlug na Petra in die tweede helfte van die verdrukking moet verstaan word in die lig van die feit dat daar in die eindtyd ‘n baie groot benoudheid as gevolg van wêreldwye vervolging soos ‘n donker wolk oor hierdie volk sal toesak. In Daniël 12 staan daar: “En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word... ‘n Tyd, tye en ‘n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word... En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en 1335 dae bereik” (Dan. 12:1,7,11,12).

Die Living Bible vertaal Daniël 12:1 soos volg: “At that time Michael, the mighty angelic prince who stands guard over your nation, will stand up and fight for you in heaven against satanic forces, and there will be a time of anguish for the Jews greater than any previous suffering in Jewish history. And yet every one of your people whose names are written in the Book will endure it.” Hieruit is dit duidelik dat alle aanvalle teen Israel, deur die eeue heen, satanies-geïnspireerd was. Nou, in die eindtyd, is dit ook nie anders nie – dit is die duiwel self wat die vyande van Israel aanhits om hierdie volk uit hulle besitting te probeer verdryf en hulle uit te delg. Hulle kry egter met die Here te doen, want Hy het aan Abraham gesê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3).

In Daniël 9:24-27 is daar ‘n beskrywing van sewentig jaarweke in Israel se heilsgeskiedenis, vanaf die opdrag om Jerusalem ná die Babiloniese ballingskap weer op te bou, totdat Israel se sondes verby en die hele volk gered sal wees en die vrederyk onder die regering van die Messias aangebreek het. Die profetiese beloftes hieroor sal dan almal vervul wees. Van hierdie 70 sewejaar-tydperke het presies 69 tot by die kruisiging van die Messias in die jaar 32 n.C. verloop. Daarna, as gevolg van die verwerping van hulle Messias, het Israel se heilsgeskiedenis opgebou en sal dit eers een jaarweek voor die Messias se wederkoms hervat word wanneer die valse messias oor hulle sal regeer.

Hierdie 70ste jaarweek sal begin wanneer die Antichris ‘n verbond met Israel én baie ander nasies sluit. In die middel van die jaarweek, m.a.w. ná 3½ jaar, sal Israel hulle verbond met hom verbreek wanneer hy in die herboude tempel in Jerusalem sal ingaan en homself daar tot God verklaar. Hy sal almal dwing om hom as God te aanbid en Israel ook verbied om enige verdere offers aan Jahweh te bring. Daniël 11:31 sê van hierdie diktator: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.” Die ontsettende gruwel is ‘n afgodsbeeld van die Antichris wat in die Allerheiligste van die tempel opgerig sal word.

Die Jode sal die verpligte afgodery verwerp, dan sal die tyd van groot benoudheid aanbreek wanneer ‘n oorblyfsel van Israel inderhaas te voet na ‘n eensame plek in die berge sal moet vlug. Hulle sal van Jerusalem af na die ruwe en byna verlate berge langs die Dooie See vlug, en daarvandaan waarskynlik verder suid na Petra toe. Jesus het gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet dié wat in Judéa is na die berge vlug… wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie... En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22).

Dit sal dus ortodokse Jode wees wat uit Jerusalem en omstreke, waar die Ou Testamentiese sabbatswette verskeie jare gelede weer ingestel is, sal moet vlug. Op die sabbat mag hulle net omtrent ‘n kilometer ver stap – volgens Handelinge 1:12 is dit die afstand tussen Jerusalem en die Olyfberg – wat beteken dat die Antichris se magte hulle dan maklik sal inhaal en doodmaak. Hulle moet ook bid dat hulle vlug nie in die winter sal wees nie, wanneer hulle vordering stadiger sal wees en hulle ook van blootstelling in die onherbergsame gebiede sal omkom.

Hierdie vlug word ook in Openbaring 12 beskryf waar Israel as ‘n getroude vrou met ‘n kind voorgestel word. Dié beeld het glad nie op die kerk betrekking nie, omdat die kerk volgens 2 Kor. 11:2 as ‘n verloofde maagd voorgestel word, wat die bruid van die Lam is. Israel, daarenteen, word as ‘n vrou beskryf wat God vir Homself geneem het, en waaruit sy Seun, Jesus Christus, na die vlees gebore is. In Jeremia 31:3-4 sê die Here van haar: “Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel!” In Jesaja 54:5 verbind die Here Homself só aan Israel: “Want jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam.” In die lig hiervan maak die volgende gedeelte uit Openbaring 12 baie sin:

“En ‘n groot teken het in die hemel verskyn: ‘n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre... En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings... En die vrou het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou 1 260 dae lank" (Op. 12:1-6).

“En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aankla voor onse God dag en nag… Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:7-12).

“En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd [3½ jaar]. En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier ingesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het” (Op. 12:13-16).

Hierdie gedeelte sluit by Daniël 12 aan, waarin daar ook verwys word na die aartsengel, Migael, wat oorlog in die hemel voer. Die gevolg daarvan is, volgens Openbaring 12, dat die duiwel op die aarde neergewerp word, waar hy ‘n verskerpte stryd teen Israel en die nasies sal voer. Van hierdie oomblik af word hy toegang tot die troon van God ontsê, waar hy die ware gelowiges aangekla het, dag en nag. Nou daal hy na die aarde neer met dubbele woede omdat hy weet dat hy min tyd het. Dit is die tyd wanneer hy op ‘n nuwe manier in die Antichris sal vaar en hom ‘n gedaanteverwisseling van valse vredevors tot ‘n gewelddadige en magshonger diktator sal laat ondergaan. Die Antichris sal homself dan in die tempel tot God verklaar en almal laat teregstel wat weier om hom te aanbid (Op. 13:15).

Hierna volg daar die laaste 3½ jaar van die verdrukking, wat as die groot verdrukking beskryf word. Dit sal 1260 lank wees, wat 42 profetiese maande van 30 dae elk is. Dit word ook as tyd, tye en ‘n halwe tyd beskryf, wat op seisoensjare dui, m.a.w. ‘n jaar, twee jare en ‘n halwe jaar. Dit is dieselfde as 1260 dae of 42 maande. Op hierdie oomblik sal Israel hulleself uit die Antichris se nuwe wêreldorde onttrek omdat hulle sal weier om hom as God te aanbid. Hierop sal die Antichris ‘n Joodse volksmoord gelas en hulle sal vinnig uit Jerusalem en omstreke moet wegvlug na die berge toe.

Sagaria 13:8-9 verwys na hierdie tyd van groot vervolging onder die Jode, waarin tweederdes in die land sal sterf en net ‘n derde na ‘n veilige plek in die berge sal ontvlug. In die Tweede Wêreldoorlog het 60% van die Jode in Europa omgekom, maar in die komende groot verdrukking sal ‘n effens groter persentasie sterf, naamlik tweederdes. Die komende verdrukking sal dus die ergste van alle tye wees – nie net vir Israel nie, maar ook vir die ongelowige nasies.

Waarom na Petra?

Hoewel dit nie uitdruklik in die Bybel gesê word dat die voortvlugtende Jode na Petra toe sal gaan nie, word dit duidelik deur historiese gebeurtenisse, omstandigheidsgetuienis en ‘n profesie oor Jordanië se posisie in die groot verdrukking geïmpliseer. Jode wat van Jerusalem af te voet berge toe vlug, sal om veiligheidsredes nie in die rigting van Egipte, Libanon, Sirië of die Middellandse See vlug nie, omdat die invalsmagte van die Antichris uit hierdie rigtings sal kom en hulle maklik sal kan omsingel en uitwis. Hulle sal ook nie Oos in die rigting van Amman vlug nie, omdat daar goeie toegangspaaie is waarop hulle maklik agtervolg en ingehaal sal kan word. Die enigste redelik veilige, hoewel ook die moeilikste begaanbare rigting vir hulle, sal suid en suidoos langs die Dooie See af wees, wat ‘n baie bergagtige gebied is.

Volgens die Joodse geskiedskrywer, Joséfus, het groepe Jode na Edom en Petra ontvlug toe die Babiloniërs Juda ingeval en Jerusalem en die tempel in die sesde eeu v.C. verwoes het. Toe die Romeine Jerusalem en die tempel in die jaar 70 n.C. verwoes het, het baie van die Jode na die verlate berge langs die Dooie See gevlug. Sommige van hulle het tevergeefs op ‘n bergtop by Masada probeer skuil. Ander het tot in Bosra en Petra suid van die Dooie See gevlug.

In die middel van die verdrukking, wanneer die Antichris homself tot God sal verklaar, sal die Jode in Israel in ‘n baie verswakte posisie wees. Volgens Daniël 9:27 en Johannes 5:43 sal hulle aan die begin van die sewejarige verdrukking ‘n vredesverbond met die Antichris sluit, in terme waarvan hulle óf sal ontwapen óf beheer oor hul gewapende magte aan ‘n internasionale vredesmag sal oorgee, en ook hulle land sal verdeel om vir die Palestyne ruimte te maak. In ruil hiervoor sal hulle veiligheid deur die valse “Messias” gewaarborg word en sal hulle ook die reg kry om die tempel in Jerusalem te herbou.

Wanneer Israel in die middel van die verdrukking hoogverraad teen die Antichris as selfverklaarde God en hoof van ‘n wêreldregering pleeg, sal hulle geen militêre, humanitêre of logistieke ondersteuning van enige aard hê nie. Hulle sal te voet, sonder padkos, net met die klere aan hulle lyf moet vlug. Gegewe hierdie besondere omstandighede kan aanvaar word dat hulle vlug nie vreeslik ver sal wees nie. Petra is omtrent 220 kilometer suidoos van Jerusalem af, en hoewel dit ‘n moeilike tog sal wees, is dit nie té ver vir voetgangers nie. Neem verder ook in ag dat die Here die aarde agter die vlugtende Israeliete sal laat oopskeur sodat hulle vyande hulle nie sal kan inhaal en oorrompel nie. Hierdie vlug en goddelike uitredding herinner baie aan Israel se vlug uit Egipte toe die Here die agtervolgende leërs van Farao by die Rooi See afgesny en verdelg het. Hy sal die voortvlugtendes in die woestyn onderhou, wat beteken dat Hy ook in hulle behoeftes aan kos en water sal voorsien, soos in die tyd ná hulle uittog uit Egipte.

Die opdrag aan die Jode is duidelik: “Vlug na die berge” (Matt. 24:16). Die berge in Israel is nie baie hoog nie, op die hoogste omtrent 1200 meter. Hulle bied ook nie baie veilige beskutting nie. Hierteenoor is die berge by Petra die hoogste in Jordanië, omtrent 1500 meter hoog. Dit is van die mees ruwe en ontoeganklike berge in die wêreld. Dit sal baie moeilik vir die Antichris se magte wees om die Joodse ballinge hier te bereik. Die Jode sal beslis ook in die lig van Daniël 11:41 weet dat Jordanië ‘n veilige ontvlugtingsplek sal wees, omdat dié land uit die hand van die Antichris sal ontkom. Daar staan: “Hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.” Die gebiede van hierdie drie antieke volke stem met die huidige Jordanië se grense ooreen. In die lig van hierdie Bybelse profesie sou dit dus baie wys wees om na die verlate bergvesting van die Edomiete in Jordanië te vlug. Neem verder ook die feit in ag dat Petra tot ‘n wêrelderfenisgebied verklaar is, wat in tye van oorlog nie aangeval, gebombardeer of op enige manier beskadig mag word nie. Dit maak nog soveel te meer van die plek ‘n veilige ontvlugtingsoord.

Dit is baie moontlik dat die eindtydse Joodse vlugtelinge volgens Psalm 60:11-12 sal bid: “Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom? Het U, o God, ons nie verwerp nie?”

Die slag van Armageddon

Wanneer die ware Messias, Jesus Christus, aan die einde van die groot verdrukking terugkom, sal die slag van Armageddon sy hoogtepunt bereik. Die Antichris, die valse profeet, die konings van die aarde en hulle leërs sal hulleself versamel om oorlog te voer teen Jesus Christus en sy hemelse leër (Op. 19:19). Die antichristelike magte sal op verskillende plekke saamgetrek wees om die oorblyfsel van Israel te probeer uitwis en ook teen Jesus Christus self te veg. Volgens Sagaria 12 en 14 sal baie van hulle in en om Jerusalem ontplooi wees, omdat hulle sal weet dat Christus sy voet op die Olyfberg sal neersit. Joël 3 sê dat daar ‘n groot sametrekking in die dal van Jósafat sal wees, wat die Kidronvallei is. Volgens Openbaring 16:16 sal daar ook ‘n groot monstering van troepe in die vallei van Megiddo in Noord-Israel wees. Jesaja 63 dui aan dat die vyandelike magte tot by Bosra, net suid van die Dooie See, sal opruk voordat hulle gestuit sal word. Bosra is 40 kilometer suidoos van die Dooie See, omtrent halfpad tussen die Dooie See en Petra. Hierdie linies sal dus waarskynlik op pad wees om die Joodse vlugtelinge in hulle bergvesting in Petra te gaan aanval en verdelg.

In Jesaja 63 lees ons die volgende oor die wederkoms van Messias, wanneer hy die oorblyfsel van Israel sal uitred en Hom oor die vyande van sy koninkryk sal wreek: “Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos een wat die wynpers trap? Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun het nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun. En Ek het die volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop” (Jes. 63:1-6).

Die oorblyfsel van Israel sal só gehate en van al hulle voormalige vriende verlate wees, dat niemand hulle sal help wanneer die Antichris en sy wêreldmag hulle probeer uitdelg nie. Hulle Messias, Jesus Christus, sal op ‘n kritieke oomblik tot hulle redding kom en self hulle vyande uitwis. Hy sal die suidelike opmars sowat 40 kilometer van Petra af stuit. Die vyande van Israel én van God sal gedood word met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit, en al die voëls sal versadig word van hulle vlees (Op. 19:21). Die Olyfberg, waarop die Here Jesus met sy wederkoms sy voet sat sit (Sag. 14:4), sal middeldeur split. Hierdie berg sal dan ook ‘n ontvlugtingsplek aan Jode gee wat tot aan die einde deur die vyand agtervolg sal word. “Julle sal vlug in die dal van my berge... soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda” (Sag. 14:5).

Direk hierna sal daar ‘n tydperk van verlengde rouklag vir Israel oor hulle sonde aanbreek. In opregtheid van hart sal hulle dit eerlik bely en volkome daarmee breek: “In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem… En die land sal rouklaag by geslagte… In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 12:11-13:2). Die nasionale rouklag sal 30 dae lank duur, soos wat gebruiklik vir leiers soos Moses en Aäron in Israel was (Num. 20:29 en Deut. 34:8).

In Daniël se skedule van eindtydse gebeure word daar, onder andere, vir Israel se 30 dae van rou ná die koms van die Messias aan die einde van die groot verdrukking voorsiening gemaak deur dit by die 1260 dae van die tweede helfte van die week te voeg: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en 1335 dae bereik” (Dan. 12:11-12).

Die volgende tydsbepaling is uit dié gedeelte duidelik: Van die tyd af dat die valse Messias die offerdiens sal verbied en die tempel ontheilig deur ‘n beeld van homself daarin te plaas, sal 1260 dae verloop totdat die ware Messias sy voete op die Olyfberg sit (Dan. 9:27; Op. 13:5). Ná ‘n verdere 30 dae van rou sal die geestelike vereniging tussen Israel en die Messias voltooi wees. Dan sal daar 1290 baie dramatiese dae verloop het sedert daardie donker dag van openlike rebellie teen die koninkryk van die hemel, toe die valse Messias homself in die tempel tot God verklaar het. ‘n Verdere 45 dae sal deur die bruilofsmaal van die Lam, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem en die oordeel oor die nasies in beslag geneem word (Op. 19:7-9; Hand. 15:16-17; Matt. 25:31-32).

Wanneer die Messiasryk formeel begin, sal 1335 dae verstryk het sedert die aanvang van die valse Messias se skrikbewind toe sy afgodsbeeld in die tempel opgerig is. Jode wat hierdie verskriklike tyd oorleef, sal ná die 1260 dae van die groot verdrukking (Matt. 24:15-22) die koms van die Messias aanskou. Ná 1290 dae sal hulle geestelik met Hom versoen wees, en ná 1335 dae sal hulle die beloofde ryk van die Messias binnegaan. Dan sal ewige geregtigheid vir hulle as volk van God aanbreek terwyl die Messias uit Jerusalem regeer.

Bronne:

Hutchings, N.W. 1983 : Petra in History and Prophecy. Oklahoma City: The Southwest Radio Church.

Malan J.S. 1999 : Die Dag van die Here. Pietersburg, RSA: Basuin Publikasies.

Malan J.S. 2003 : Israel. Pietersburg, RSA: Basuin Publikasies.