Print

Daniël se 70 Jaarweke

Written by Prof Johan Malan.

Wanneer ‘n studie van profesieë oor die eindtyd gemaak word, moet die dispensasionele posisie van die volk Israel goed begryp word, veral soos wat dit in Daniël 9:24-27 beskryf word. Dit is teen hierdie agtergrond baie duidelik waarom al die gebeure in die verdrukking, soos in Openbaring 6 tot 19 beskryf, binne ‘n tydsraamwerk van sewe jaar afspeel. Israel se heilsgeskiedenis vanaf die einde van die Babiloniese ballingskap tot met die aanbreek van die Messiasryk, word in Daniël 9:24-27 binne die raamwerk van 70 jaarweke beskryf. In hierdie tydperk sal twee messiasse ‘n prominente rol vervul – die ware Messias en die valse messias:

“Sewentig sewetalle is oor jou volk [Israel] en jou heilige stad [Jerusalem] bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors [die Messias] is sewe sewetalle; en 62 sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die 62 sewetalle [m.a.w. ná 7 plus 62 sewetalle] sal ‘n Gesalfde [die Messias] uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom [die valse messias], sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy [die valse messias] sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word” (Dan. 9:24-27).

Die 70 jaarweke staan met die volgende gebeure in verband:

  • Aan die begin van die 70 jaarweke, in 445 v.C., is opdrag deur koning Artasasta aan die Jode in ballingskap gegee om Jerusalem en die tempel te herbou.
  • Die aanvanklike bouwerk is ná 7 jaarweke voltooi.
  • In die daaropvolgende 62 jaarweke is Jerusalem in tye van benoudheid verder uitgebrei en bewoon.
  • Aan die einde van 69 (7+62) jaarweke, in April 32 n.C., is die Messias in Jerusalem verwerp en gekruisig.
  • Omdat Israel die Messias verwerp het, is God se heilsplan met hulle tydelik ter syde geskuif en is die evangelie na die ganse nie-Joodse wêreld uitgedra. In hierdie tyd is Israel in ‘n internasionale ballingskap onder die nasies (Luk. 21:24).
  • Die eindtydse herstel van Israel na hulle land het formeel in 1948 begin en die verklaring van Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel in 1980.
  • Die toneel is nou gereed vir die begin van die 70ste jaarweek van Daniël, wanneer die valse Messias met Israel en die nasies ‘n verbond sal sluit.
  • Aan die einde van die 70ste jaarweek sal die ware Messias kom, die valse messias en sy magte verdelg en die hele oorblyfsel van Israel fisies uitred én ook geestelik lewend maak. Hierna sal die Messiasryk aanbreek en ewige geregtigheid in Israel heers. Almal van hulle sal die Messias van harte dien en sy spesiale getuies op aarde wees.

Hierdie is een van die duidelikste uitsprake in die Bybel oor Israel se dispensasionele posisie vanaf hulle herstel uit die Babiloniese ballingskap in die 5de eeu v.C. tot met die aanbreek van die Messiasryk. ‘n Eerste opmerking oor die 70 sewetalle (m.a.w. 70 jaarweke) is dat dit eksakte tydperke is. ‘n Jaarweek is ‘n periode van presies sewe jaar: “Ses jaar lank mag jy jou land saai... maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ‘n sabbat vir die Here” (Lev. 25:3-4). Ná elke sewe jaarweke word die 50ste jaar, wat ook die eerste jaar in die volgende jaarweek is, as ‘n jubeljaar gevier (Lev. 25:8-10).

Moderne Israel het hulle Bybelse jaarweke weer herstel, en in hierdie siklusse onderhou ortodokse Jode elke sewende jaar as ‘n sabbatsjaar. Hulle huidige jaarweek strek vanaf 1 Tisri 2001 (September 2001 op ons kalender) tot op 1 Tisri 2008. Israel volg ‘n maankalender waarin elke maand met die nuwemaan begin en elke jaar op die eerste dag van die maand Tisri (wat Rosh Hashanah genoem word). Tisri, wat die eerste maand op Israel se siviele kalender is, is die sewende maand op hulle godsdienstige kalender (Lev. 23:24) wat met die lentemaand, Nisan, begin toe hulle uit Egipte getrek het (Ex. 12:2). Omdat ‘n maanmaand net 29½ dae lank is, is ‘n maanjaar 354 dae lank – 11¼ dae korter as ‘n seisoensjaar. As gevolg hiervan het Israel soms skrikkeljare met 13 maande elk om weer in pas met die seisoensjare te kom, want Tisri moet altyd in die noordelike halfrond se herfs wees wanneer dit in Israel, wat ‘n winterreënvalgebied is, oestyd is.

Die sewentig jaarweke is egter nie seisoensjare of maanjare nie, maar 490 profetiese jare van 360 dae elk (vgl. Op. 11:2-3, 12:6 en 13:5 waarin daar na die twee helftes van die 70ste jaarweek as 42 maande en ook as 1260 dae verwys word, m.a.w. maande van 30 dae elk). In verband met hierdie profetiese tydperk van 70 jaarweke moet daar baie duidelik gelet word op:

  • die vertrekpunt van die 70 jaarweke wanneer die opdrag uitgaan om Jerusalem weer op te bou;
  • die onderbreking daarvan aan die einde van 69 jaarweke wanneer die Messias verwerp word;
  • die aanbreek van die 70ste week wanneer ‘n verbond met die valse messias gesluit sal word;
  • die verbreking van Israel se verbond met die valse messias in die middel van die in die 70ste week; en
  • die voleindiging van die 70 jaarweke wanneer die hele Israel gered sal wees.

Wanneer daar duidelikheid oor die begin en voleindiging van hierdie tydperk verkry is, verval alle onbybelse toepassings daarvan. Min mense redeneer oor die aanvang van die 70 jaarweke, naamlik koning Artasásta se toestemming aan die Joodse ballinge om hulle stad en die tempel te gaan herbou (Neh. 2:1). Daar word egter baie teenstrydige aansprake oor die einde van die 70 jaarweke gemaak. Sommige mense probeer om die hele tydperk van 490 profetiese jare by die kruisiging van Jesus af te sluit, en ander sluit dit by die verwoesting van Jerusalem in die jaar 70 n.C. af. Ons moet egter op die volgende twee belangrike toestande let wat tydens die vervulling van hierdie profesie sal heers, en dit sal duidelik eers ná die wederkoms van die Messias en Israel se nasionale versoening met Hom aanbreek:

1.    Aan die einde van die 70 jaarweke sal, wat Israel betref, die goddeloosheid voleindig, die maat van die volk se sondes vol en die ongeregtigheid versoen wees. Die werkwoord kala beteken om iets te beëindig en finaal af te sluit. Israel se sonde en ongehoorsaamheid as volk sal by die wederkoms van die Messias tot ‘n einde gebring word: “In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid” (Sag. 13:1). Die versoeningswerk wat in beginsel reeds op Gólgota gedoen is, sal dan eers in die praktyk deur die hele Israel in die geloof aanvaar word. Op daardie dag sal die oorblyfsel van Israel opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en rouklaag oor Hom soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun (Sag. 12:10). “Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26). Ná hierdie gebeurtenis sal die volk volkome, en in sy geheel, met God versoen wees en Hom almal van harte dien: “En hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees. En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie” (Jer. 32:38-40). Hierdie toestand het nog nooit eers naastenby in die geskiedenis van Israel aangebreek nie, daarom weet ons dat die 70 jaarweke nog nie verby is nie. Die huidige herstelde Israel verwerp Jesus nog net so uitdruklik as wat hulle voorvaders dit gedoen het. Daar moet dus nog ‘n groot nasionale versoening met die Messias plaasvind voordat ook die volgende profesie oor hulle in vervulling sal gaan: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit… Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:31-34).

2.    Nadat Israel deur die Messias met God versoen is, sal ewige geregtigheid aangebring word, gesig en profeet sal beseël wees en wat hoogheilig is sal gesalf word. Die aanbring van ewige geregtigheid beteken letterlik dat “die geregtigheid van die eeue” ‘n aanvang sal neem. Dit beteken dat God met ‘n bedeling (dispensasie) sal begin wat deur geregtigheid gekenmerk sal word. Dit is duidelik ‘n verwysing na die duisendjarige vrederyk van Christus (Jes. 60:21; Jer. 23:5-6). Die beseëling van die profesieë beteken dat hulle ná die 70 jaarweke vervul, afgesluit en beëindig sal word. Israel moet dan almal gered en in hulle land herstel wees, en die Messias moet terug wees en van die herstelde troon van Dawid af oor Israel én die hele wêreld regeer. Sy vyande moet ook verdelg en die duisendjarige vrederyk ten volle gevestig wees. Hierdie toestand het duidelik nog nie aangebreek nie, want talle Bybelse profesieë, veral oor Israel en hulle land, is nog nie vervul nie en dus nog nie afgesluit en verseël nie. In die tyd wat kom, sal wat hoogheilig is, gesalf word. Dit sal eers gebeur wanneer die Gesalfde gekom het, sy diensknegte, die regeringsetel in Jerusalem en ook die tempel van die vrederyk as heilig aan die Here verklaar sal wees.

Omdat die jaarweke erkende tydseenhede in Israel se chronologie is, het ons hier met ‘n baie eksakte profesie te doen. Vandat die woord uitgegaan het om Jerusalem te herbou, het daar sewe jaarweke verloop totdat die stad, die tempel en die muur rondom die stad klaar gebou was. Daarna het nog 62 jaarweke verloop waarin Jerusalem in tye van benoudheid bewoon en verder uitgebrei is totdat die Messias gekom het. In totaal het daar dus 69 jaarweke verloop tot met die uitroeiing van ‘n Gesalfde  – dit is die kruisiging van die Messias.

Daar het inderdaad 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 v.C. aan Nehemia toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh. 2:1-8), tot met die kruisiging van die Messias op 14 Nisan 32 n.C. Prof. J.M. Schepers van RAU het in ‘n artikel (“Die kruisigingsdatum van Jesus eeue tevore geprofeteer”) daarop gewys dat 483 profetiese jare van 360 dae elk, ‘n totaal van 173 880 dae verteenwoordig. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op ons Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke dus tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop, en is beëindig op die dag waarop Jesus gekruisig is. Al wat hierna in die heilsgeskiedenis van Israel as volk oorbly totdat die Messiasryk aanbreek, is sewe jaar – die 70ste jaarweek van Daniël, wat deur die volk se verbond met die valse messias ingelui sal word.

Dit is vanselfsprekend dat die verwerping en kruisiging van die Messias ‘n onderbreking in Israel se heilsgeskiedenis tot gevolg sou hê. Jesus het vir die Jode gesê dat hulle huis (Jerusalem) verwoes sou word omdat hulle Hom as Messias en Koning verwerp het (Matt. 23:37-38), en dat Hy as gevolg daarvan sou weggaan totdat hulle Hom iewers in die toekoms as die beloofde Messias sou aanvaar: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).

Voordat Israel weer as volk in hulle land herstel sou wees, met ‘n eie regering wat ‘n besluit oor die herbouing van die tempel kan neem en namens die hele volk ‘n verbond met die Messias of die valse messias kan sluit, moes hulle eers vir ‘n lang tyd onder die nasies verstrooi wees terwyl die tye van die nasies sy loop neem. Jesus het vir Israel gesê: “[Julle sal] as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Dit impliseer baie duidelik dat Israel in die laaste dae as volk in die land wat die Here aan hulle vaders gegee het, herstel sal word: “So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land” (Eseg. 37:21). Die Joodse bevolking van Israel het in 2004 reeds aangegroei tot 5,4 miljoen, wat omtrent dieselfde as die aantal Amerikaanse Jode is. Binne die volgende paar jaar sal Israel se Jode beslis meer as dié in die VSA wees. Dit sal ’n belangrike demografiese keerpunt wees, omdat Israel vir die eerste keer sedert die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. die grootste konsentrasie Jode in die wêreld sal hê. Volgens ortodokse rabbi’s sal Israel dán namens die hele Joodse volk op ’n godsdienstig wettige manier besluite kan neem en verbonde sluit.

In die sewe jaar direk voor die Messias se wederkoms sal Israel, tydens die 70ste jaarweek, ‘n verbond met die valse messias sluit. Jesus het hulle hierteen gewaarsku: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). Dit is dus duidelik dat die onderbreking in die 70 jaarweke op die verwerping van die ware Messias gevolg het, en sal strek tot op die dag wanneer Israel ‘n verbond met die valse messias sluit. Dan sal die aftelling van die laaste jaarweek begin.

Ons leef nou in die tyd van die progressiewe herstel van Israel en Jerusalem, waarin die 70ste jaarweek van die volk se heilsgeskiedenis enige tyd kan begin. Volgens Daniël 9:26-27 sal dit ‘n aanvang neem wanneer die vors van ‘n volk wat sal kom (die Antichris, of valse messias) ‘n verbond met Israel én baie ander lande sluit. Sy toetrede tot die wêreldtoneel sal waarskynlik met ‘n ernstige oorlogsituasie verband hou (die Russies-Arabiese inval in Israel – Eseg. 38 en 39), en hy sal die krediet vir die oorwinning opeis. Hy sal dus op ‘n kritieke oomblik as ‘n vredevors tot Israel se redding kom, en ook deur al die nasies geloof word omdat hy ‘n moontlike derde wêreldoorlog afgeweer en ‘n internasionale ekonomiese ineenstorting voorkom het.

Hierdie hoogs dramatiese gebeure sal ‘n verreikende invloed op die Joodse volk, hulle regering en godsdiensleiers hê. Om die opgewondenheid nog verder te verhoog, sal dié selfverklaarde “verlosser” aanspraak op die troon van Dawid maak en op ‘n misleidende wyse bewys dat hy ‘n afstammeling van Dawid is. Israel sal ‘n verbond met hom sluit waarin hulle hom as die beloofde Messias aanvaar. Hy sal ook aan hulle die reg gee om die tempel te herbou en weer die offerdiens in te stel, omdat dit die voortgesette verwerping van Jesus se Messiasskap en sy eenmalige offer aan die kruis sal verseker.

Gedurende die feestelikhede wat met die inhuldiging van die valse messias gepaard sal gaan, sal ‘n geestelike herlewing plaasvind waarin 144 000 Jode hulle van hul regering se verbond met Satan se “engel van die lig” sal distansieer en vir Jesus Christus (Yeshua Ha Mashiach) as die ware Messias sal aanvaar (Op. 7:4). Hulle sal openlik standpunt teen die valse messias inneem, en dit sal tot hewige vervolging teen hulle aanleiding gee. Die valse vrede wat die Antichris sal bewerk, sal net 3½ jaar lank hou. In die middel van die jaarweek van sewe jaar sal hy in die herboude tempel se Allerheiligste ingaan en homself daar tot God verklaar (2 Thess. 2:4). ‘n Beeld van hom sal in die tempel geplaas word, en alle mense gedwing word om hom en sy beeld te aanbid (Op. 13:14-15). Dan sal hy Israel se nasionale godsdiens en offerdiens verbied: “…gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees” (Dan. 9:27).

Israel sal as gevolg hiervan hulle verbond met die valse messias verbreek en hom as Messias verwerp. Hy sal in woede op hulle toeslaan en ‘n Joodse volksmoord gelas. Op daardie dag sal die Jode vir hulle lewens moet vlug en geen oomblik verloor in hulle poging om van die valse messias se magte af weg te kom nie (Matt. 24:15-22). Daniël verwys na hierdie tyd van verskrikking wat in al sy felheid oor Israel sal losbars. Paniek sal heers en baie mense sal nie weet wat om te doen nie. Sommige van die Jode sal die valse Messias erken in die hoop om vrede, sekuriteit en ekonomiese voordele van hom te verkry. Die ander sal hom egter verwerp en as gevolg daarvan hewig deur hom vervolg word (Dan. 11:31-36). Hierdie arrogante leier “sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45). Die ware Messias sal hom tydens sy wederkoms verdelg (2 Thess. 2:8; Op. 19:19-20). Dit sal die skielike einde van sy sewe jaar lange skrikbewind meebring, en dus ook die einde van die 70ste jaarweek van Daniël.

Uit die profesie oor die 70 jaarweke van Israel se geskiedenis voor die Messiasryk is dit duidelik dat hulle die ware Messias aan die einde van die 69ste jaarweek sou ombring, hulleself as gevolg daarvan uit God se raadsplan sou begewe, uit hulle land verdryf sou word, en dat hulle uiteindelik aan die begin van die 70ste jaarweek in groot getalle terug in hulle land sal wees en met die valse messias ‘n verbond sal sluit. Hierdie feite dui sonder enige twyfel daarop dat die hele 70ste jaarweek deel van Israel se heilsgeskiedenis is en derhalwe nie deel van die kerkdispensasie nie. Die tye van die nasies, wat met die kerkbedeling en die lang internasionale verstrooiing van Israel saamval, moet eers verby wees voordat die 70ste jaarweek ‘n aanvang kan neem.

Aan die einde van die 70ste jaarweek moet daar ‘n baie dramatiese ingryping van God in die Joodse volksgeskiedenis wees. Dit sal daartoe lei dat hulle van gepoogde uitwissing deur die valse messias gered sal word, en ook almal geestelik met die Messias versoen sal word. Dan sal ewige geregtigheid vir hierdie volk aanbreek, en sal almal van hulle die Here van harte deur die Messias dien. Die hoogtepunt van hulle heilsgeskiedenis as volk sal in die daaropvolgende duisendjarige vrederyk onder die heerskappy van die Messias aanbreek. Al die nasies sal Israel se guns soek omdat dit vir almal duidelik sal wees dat die Here met hulle is (Sag. 8:22-23).

Net so letterlik as wat die eerste 69 jaarweke tot met die verwerping en kruisiging van die Messias verloop het, sal die 70ste jaarweek ook in jare, maande én selfs in dae afgetel kan word. Die enigste onbekende faktor is wanneer die kerkbedeling deur die wegraping afgesluit, die Antichris geopenbaar en sy sewe jaar lange verbond met Israel en die nasies gesluit sal word. Die gevorderde stadium van Israel se herstel in hulle land (die bot van die vyeboom), asook Jerusalem se staatkundige herstel, is vaste aanduidings dat dié tyd baie naby is.

Die boek Openbaring bied ‘n opsomming van die hele kerkbedeling in hoofstukke 2 en 3, waarna die verheerlikte kerk in Openbaring 4 en 5 in die hemel aangetref word. Daarna begin die aftelling van die sewe jaar van verdrukking wat vir Israel en die ongeredde nasies bedoel is. Aan die einde daarvan sal Jesus Christus met sy verheerlikte kerk terugkeer aarde toe om sy duisendjarige vrederyk hier te vestig met Jerusalem as hoofstad van die wêreld.

Daar móét ná die kerkbedeling ‘n sewe jaar tydperk aanbreek waarin Israel se heilsgeskiedenis tot met hulle nasionale bekering kan verloop, en waarin mense uit die ongeredde nasies ‘n laaste kans sal kry om Christus as Messias aan te neem – al sal dit ook in tye van groot benoudheid wees, waarin hulle bereid sal moet wees om die Antichris openlik te verwerp en as gevolg daarvan as martelare te sterf. Deur die opstanding van die regverdiges sal hulle verheerlikte liggame kry en in die heerlikheid van die Messias se duisendjarige regering op aarde deel. Johannes sê: “En ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar” (Op. 20:4).

Andrew Murray 32