Print

Nuwe Sanhedrin Gestig

Written by Prof Johan Malan.

Die Sanhedrin, ‘n tradisionele Joodse Raad wat met regspraak en geestelike leierskap uit die oogpunt van die Torah (die Wet van die Here) gemoeid is, is weer in Israel in die lewe geroep. Hulle geniet egter nie amptelike status in Israel nie, en word net deur ortodokse Jode erken. Die nuwe Sanhedrin bestaan uit 71 lede, waaronder rabbi’s (wat “skrifgeleerdes” is) en ook ander Joodse geleerdes.

Op ‘n onlangse byeenkoms van die Sanhedrin is die moontlikheid van die herbouing van die tempel in Jerusalem bespreek. Hulle probeer om die presiese plek vir die bou van die derde tempel te bepaal. Dit is egter moeilik, omdat daar nie op dié terrein argeologiese opgrawings gedoen mag word nie, aangesien die Tempelberg onder die beheer van ‘n Moslem-komitee is.

Nadat Israel die Tempelberg in 1967 herower het, het hulle dié terrein aan Moslem-beheer afgestaan omdat twee van hulle moskees daar staan – die Al Aksa en die Rotskoepel. Vir Moslems is dit die derde heiligste plek ná Mekka en Medina. Jerusalem word egter nie in die Koran genoem nie, en Moslems gebruik die teenwoordigheid van die Palestyne in Israel net om die Joodse volk te ondermyn en van hulle regte op die land en die stad Jerusalem te beroof. Dit is die rede vir die sterk weerstand van die Moslems teen die herbouing van die Joodse tempel, asook opgrawings op die Tempelberg om die fondasies van die vorige tempel bloot te lê. Die nuwe Sanhedrin het ‘n komitee bestaande uit professore, argeoloë en geestelikes gevorm om die saak van die tempel se ligging en toekomstige herbouing te ondersoek en aan die volle Raad verslag te doen.

Die stigters van die Sanhedrin sê hulle doen net hulle plig (mitzvah) om ‘n Sanhedrin in die lewe te roep. Maimonides, ‘n twaalfde eeuse Joodse geleerde, het die stappe beskryf wat tot die instelling van só ‘n raad sal lei. Gedurende die tyd van die tweede tempel (die tempel van Herodes in die eerste eeu) was daar ‘n Sanhedrin wat met die hoogste gesag in Joodse regspraak beklee was. Die 71 lede van die Raad het in ‘n spesiale vertrek op die tempelterrein in die vorm van ‘n halwe sirkel gesit.

Rabbi Chaim Richman het gesê dat dit paslik is dat die Sanhedrin met besinning oor die tempel begin, omdat die tempel van sentrale belang in die identiteit van die Joodse volk is. Hy het ook gesê dat eerste minister Ariel Sharon nou uit sekere gedeeltes van Israel se grondgebied onttrek en sodoende, in sy eie woorde, van Israel se droom afsien. Die Sanhedrin soek egter na maniere om die wortels van die Joodse geloof te versterk en Israel weer rondom die tempeldiens en die Torah te verenig.

Verwerping van Jesus as Messias

Dit is opvallend dat huidige verwikkelings die ortodokse sentimente in Israel versterk, en gevolglik daartoe sal lei dat Israel se leiers weer eens amptelik vir Jesus as die beloofde Messias sal verwerp. Dit getuig van ongelooflike geestelike blindheid, veral in die lig van die volk se 2000 jaar lange verstrooiing en vervolging onder die nasies. Dit is ‘n onbetwisbare historiese feit dat Jerusalem en die tweede tempel tot op die grond afgebreek en die Jode oor die aarde verstrooi is omdat hulle Jesus as Messias verwerp het:

Jesus het aan lede van die vorige Sanhedrin in Jerusalem gesê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:37-39).

Die verwoesting van Jerusalem én die tempel was dus die direkte gevolg van die verwerping van die Here Jesus. Jerusalem se godsdienstige leierskap het hulleself tot die voortsetting van die tempeldiens verbind, en dit het daartoe gelei dat die eenmalige offer van die Lam van God vir die sondes van Israel én die hele wêreld (Joh. 1:29) nie aanvaar is nie. Omdat die ware Hoeksteen deur die bouers van die volk verwerp is, het die nasionale lewe van Israel tot ‘n val gekom: "Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword. Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel" (Luk 20:17-18; vgl. Ef. 2:20; 1 Pet. 2:6-7).

In die lig van hierdie feite was die voortbestaan van die tweede tempel gedoem: “En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie” (Matt. 24:1-2). Dit sou die direkte gevolg wees van die feit dat die Sanhedrin en die groot meerderheid van die Joodse volk nie opgemerk het dat God hulle in die Persoon van Jesus Christus besoek het nie (Luk. 19:41-44). Die voortsetting van die ou verbond het derhalwe in die duidelike teken van die verwerping van die nuwe verbond onder die Messias gestaan.

Die Jode het hierdie keuse duidelik gemaak toe hulle voor die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, vir Jesus verwerp het en tot hulle eie ondergang besluit het om die gevolge daarvan te dra: “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!” (Matt. 27:25). Hoe hét Israel nie as gevolg van hierdie tragiese besluit gely nie! En nog is dit nie die einde van hulle lyding nie, want hulle is nog net so sterk teen die Messiasskap van Jesus gekant. Die noodwendige gevolg hiervan sal wees dat die moderne Sanhedrin ‘n ander persoon (die Antichris) as Messias sal aanvaar (Joh. 5:43) indien hy aan hulle die reg sal gee om die tempel in Jerusalem te herbou.

Dit is presies wat hierdie valse messias sal doen, want die hervatting van die tempeldiens sal verseker dat die Joodse leiers steeds die eenmalige offer van die ware Messias aan die kruis sal verwerp. Verder sal die Antichris ook ‘n ander doel met die herboude tempel hê, en dit is om homself daarin tot God te verklaar (2 Thess. 2:4). Die hele idee van die herbouing van die tempel sal dus geweldige antichristelike gevolge hê.

Hierdie daad van die Antichris, in die middel van die verdrukking van sewe jaar, sal tot die groot ontnugtering van die Jode lei. Hulle sal hulle verbond met die valse messias verbreek en dan inderhaas uit Jerusalem moet vlug (Matt. 24:15-22). Aan die einde van die groot verdrukking sal die oorblyfsel van Israel die ware Messias op die Olyfberg sien kom (Sag. 14:4-5). Dan sal hulle aan Hom sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).

Dit is ‘n baie moeilike pad wat die moderne Sanhedrin, asook ander leiers van Israel, vir hierdie volk gekies het. Dit gaan baie van hulle se lewe kos, maar uiteindelik sal Sagaria 12:10 ‘n heerlike werklikheid word wanneer Israel sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom sal ween. Dan eers sal die hele volk besef hoe dwaas dit was om die tempeldiens bo die offer van die Messias aan die kruis te verkies (Heb. 7:26-28).