Print

Ter Verdediging van Israel?

Written by Prof Johan Malan.

Dr. Mike Evans van die Jerusalem Prayer Team (JPT) het ‘n sterk oproep vir internasionale steun vir Israel gemaak na aanleiding van die beplande onafhanklikheidsverklaring van ‘n Palestynse staat in September 2011, met Oos-Jerusalem as hoofstad. Volgens Mike Evans sal die Verenigde Nasies hierdie plan goedkeur met die volle samewerking van die VSA en die meeste ander lande. Groot kommer word om goeie redes uitgespreek dat die plan die nasionale belange van Israel erg sal benadeel.

Die doelstelling van die JPT is “om die Joodse volk en die land Israel te beskerm en te verdedig totdat Israel veilig is en die Verlosser na Sion gekom het.” Hulle openhartige verwysing na die koms van die Messias word waardeer. Hulle verkondig hierdie waarheid ook op hulle webwerf, waar hulle sê: “Wanneer ons vir die vrede van Jerusalem bid, bid ons vir die wederkoms van die Here” (www.jpteam.org). Hulle is ook reg om vyandige nasies wat Jerusalem en Israel offer op die altaar van Palestynse nasieskap te waarsku: “God sê dat Hy alle nasies sal oordeel wat teen Jerusalem optrek.”

In die JPT se sterk beweging om ‘n suiwer Bybelse basis vir die krisis in die Midde-Ooste te vind waardeur Israel se nasionale belange beskerm sal word, laat hulle egter na om Israel se geestelike verpligting te noem om in die regte verhouding met hulle eie Messias te kom. As ons dit nie op ‘n liefdevolle maar baie duidelike manier doen nie, sal al ons pogings om Israel te ondersteun, tevergeefs wees. Dit is eenvoudig nie vir JPT genoeg om op hulle webblad te sê dat daar tye van geestelike verkwikking onder die nie-Jode sal wees, bedoelende ‘n groot, eindtydse herlewing, en dat dit ook na Israel sal oorspoel en tot hulle redding sal lei nie. Wat is die plig van Christene in hierdie verband?

In die heel eerste plek moet ons getuies vir Christus wees – in ‘n besondere sin ook onder die Israeli’s (Rom. 11:11). Geen kompromie hoegenaamd kan gemaak word met John Hagee se twee verbonde teologie nie, waarin voorsiening gemaak word vir die redding van Jode sonder dat hulle Jesus as Messias hoef aan te neem omdat, volgens hom, net nie-Jode vir Christus nodig het (die ou verbond van die wet vir die Jode en die nuwe verbond van genade deur Christus vir nie-Jode). Die Bybel weerlê duidelik hierdie twee verbonde teologie, omdat die wet die Jode se tugmeester na Christus was. Hy het al die Ou Testamentiese offers en feeste vervul, en net Hy kan Jode sowel as nie-Jode red (Gal. 3:23-25).

Paulus sê dat “die evangelie van Christus ... ‘n krag is van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek” (Rom. 1:16). Hy het ook sy mede-Joodse gelowiges aan hulle plig herinner om Christus as Verlosser aan te neem: “Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie, terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie” (Gal. 2:15-16; vgl. Fil. 3:8-9; Hand. 4:8-12).

Die universele reël van redding deur geloof in die Messias het gegeld sedert die soendood van Jesus, waarop die verwante gebeure van sy opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees gevolg het. Die optrede van eerstegeslag Joodse leiers in die Christelike bedeling het na die nasionale blindheid van Israel gelei toe hulle die Messias verwerp het. Hierdie tragiese besluit het in die eerste eeu na die vernietiging van Jerusalem en alle ander Joodse stede gelei, die dood van meer as ‘n miljoen Jode veroorsaak, asook die internasionale verstrooiing van die oorlewende Jode begin (Matt. 23:34–24:2; Luk. 19:41-44; 21:20-24).

Die nasionale blindheid van Israel as gevolg van die volk se verwerping van die Messias (Rom. 11:8-10), het egter nooit in die pad van individuele Jode gestaan om gered te word nie. Toe die vroeë kerk op Pinksterdag gevestig is, was die eerste drieduisend lede daarvan Messiaanse Jode (of Joodse Christene, volgens Griekse terminologie). Sedertdien was daar in elke geslag ‘n oorblyfsel geredde Jode. Israel se nasionale belange (‘n vreedsame verblyf in hulle godgegewe land wat uit ‘n onverdeelde Jerusalem regeer word), sal slegs bevestig word wanneer die meerderheid van die volk se leiers die Messias aanneem (Rom. 11:25-27). Die Messias is hulle vrede, nie die VN, die VSA, EU, Rusland of enige ander menslike mag nie.

Die kritieke belangrikheid van ‘n positiewe verhouding tussen Israel en die Messias impliseer dat ons, as volgelinge van die Messias, in die afwesigheid daarvan nie op enige manier ‘n bydrae tot Israel se nasionale veiligheid kan lewer deur druk uit te oefen op die internasionale gemeenskap nie. ‘n Stap van hierdie aard kan nooit die struikelblok van Israel se nasionale blindheid, asook hulle eie aandadigheid aan die verbeuring van God se seëninge gedurende hulle verblyf in Eretz Yisrael, oorkom nie. Waarom word die werklike oplossing vir hierdie probleem nie met dieselfde geesdrif deur Christelike bedienings onder die Jode nagestreef nie? Is ons dalk skaam vir Christus en totaal onwillig om ortodokse Jode te waarsku en daardeur aanstoot te gee? Indien eerstegeslag Jode grootliks gely het omdat hulle die Messias verwerp het, selfs tot amper op die punt van hulle totale vernietiging, waarom sou 21ste eeuse Jode wat presies dieselfde doen, verskoon word oor hierdie daad en grootliks in hulle land geseën word?

In hulle oproep vir fondse onder die naam “Save Jerusalem Campaign”, noem die JPT nie eers een keer die naam van die Messias nie, terwyl verskeie Israeliese, Amerikaanse en ander buitelandse leiers by die naam genoem word, as sou die toekoms van Jerusalem in hulle hande wees. Volgens die brief van Mike Evans word die probleem geheel en al as ekstern beskou – nie as ‘n interne probleem wat ontstaan het as gevolg van die gebroke verhouding tussen Israel en hulle Messias nie. As gevolg van hierdie wanopvatting sal toestande in Israel en Jerusalem aanhoudend versleg tot op die punt van die groot beleg van Jerusalem.

Israel se eindtydse herstel gebeur as gevolg van God se onveranderlike verbond met Israel se stamvaders, Abraham, Isak en Jakob (Gen. 13:14-16; 17:7-8; 28:13-14). God is egter net so ontevrede met die huidige geestelike toestand van die volk as wat Hy met hulle eerste geslag voorouers was. Voordat die Here sy wonderlike plan met Israel ten uitvoer kan bring, sal Hy hulle in die komende tyd van die benoudheid van Jakob moet oordeel (Jer. 30:7). Slegs ‘n derde van hulle sal hierdie ongekende groot verdrukking oorleef, en hulle sal die oorblyfsel wees wat geestelik herstel sal word (Sag. 13:8-9; Matt. 24:21-22).

Hoe kan Christelike bedienings hierdie belangrike feit miskyk en “maklike” oplossings nastreef deur te beweer dat daar ‘n wêreldwye herlewing in die eindtyd sal wees waarin Israel ook gered sal word? Dit is ook wat die JPT op hulle webblad sê. Die Bybel verwys inteendeel na ‘n groot afval in die eindtydse kerk (Matt. 24:4-5; 2 Thess. 2:3; 1 Tim. 4:1; 2 Tim. 3:1-5; 4:2-4; 2 Pet.2:1-2). In hierdie tyd sal daar net relatief klein groepies gelowiges wees wat tye van geestelike verkwikking sal ervaar (Op. 22:11).

Die volgende groot herlewing sal ná die wegraping in die verdrukking plaasvind. Hieruit sal daar 144 000 geredde Jode na vore kom wat dadelik sal begin om Israel en die res van die wêreld te evangeliseer (Op. 7:1-8). Dit sal tydens hierdie sewe-jaar periode na die redding van ‘n groot menigte lei (Op. 7:9-17).

Wat die huidige tyd betref, sal geestelike misleiding vinnig toeneem – tot só ‘n mate dat selfs die wyse maagde in die koninkryk van God vaak sal word en aan die slaap sal raak saam met die dwase maagde wat slegs naamchristene of teruggevallenes is. Israel as ‘n volk sal met die verharding van hul harte voortgaan, en daardeur vir God dwing om groot benoudheid oor hulle te bring. Dit is presies wat nou al begin gebeur:

“Mensekind, die huis van Israel het vir My skuim geword... Daarom, so sê die Here HERE: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt… en julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (Eseg. 22:18-22). Die goddeloosheid en morele verval wat die inwoners van Jerusalem kort voor die vernietiging van hulle stad en die Babiloniese ballingskap van Juda gekenmerk het, is ook tipies van toestande in eindtydse Jerusalem voor die verdrukking.

Daar sal ‘n multinasionale beleg van Jerusalem wees (Sag. 12:2-3). God sal dit om twee redes toelaat. Die eerste rede is omdat Hy die nasies wil oordeel weens hulle anti-God en anti-Joodse beleidsrigtings en dade: “Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem... en die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies” (Sag. 14:2-3). Joël openbaar ook sommige van die redes vir hierdie oordeel: “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).

Die tweede rede vir hierdie beleg sal wees om die tyd van benoudheid vir Jakob in te lui, wat ‘n groot verdrukking sal wees soos wat daar nog nooit in die geskiedenis was nie (Jer. 30:7; Matt. 24:21). “En in die ganse land, spreek die Here – twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 13:8-9).

Daar sal twee partye betrokke wees by die militêre beleg van Jerusalem – Israel en die nasies. Beide van hulle sal die voorwerpe van God se oordele wees wanneer Hy die rebelse meerderheid sal verdelg en die gelowige minderheid sal red. Dit geld net soveel vir Israel as vir die nasies (Sag. 12:10; 14:16). As Christene het ons die plig om altwee groepe teen die gevolge van die voortgesette verwerping van die Here Jesus te waarsku, want Hy is die enigste Verlosser van die wêreld (Hand. 4:12), en Hy is ook bestem om Koning te word op God se heilige berg, Sion (Ps. 2:6). Christus sal slegs sy posisie as Koning op die troon van Dawid aanvaar nadat Hy sy vyande vernietig het, insluitend die Antichris en die valse profeet, en die duiwel in ‘n put laat bind het (Op. 19:19–20:3).

Dit is ons plig en roeping om Christus aan die hele wêreld te verkondig, ook aan Israel. Met elke nuwe dag gly ons dieper in die nuwe wêreldorde in, wat wesenlik teen die God van die Bybel en sy Seun, teen Israel, en ook teen die eksklusiewe erkenning van die Christendom as die enigste ware godsdiens is. Die sekulêre regering van Israel probeer om aan die eise van die goddelose nuwe wêreldorde te voldoen. Die psalmis het sterk waarskuwings teenoor diegene uitgespreek wat by hierdie ideologiese en godsdienstige rebellie betrokke is, maar seën belowe aan almal wat hulleself hiervan weerhou:

“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde (die Messias) en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! ... [God sê]: Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg... Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:1-12).

Die toneel is voorberei vir die koms van Christus as die Koning van konings. Dit sal gebeur in ‘n tyd van goddelike wraak oor sy vyande. Die nasies moet nie slegs teen die verontregting van Israel gewaarsku word nie, maar ook teen hulle eie immoraliteit en antichristelike hervormings. Die meerderheid van hulle sal nie op hierdie waarskuwings ag slaan nie, maar hulle moet nietemin ingelig word oor die toekomstige ellende wat hulle sal tref wanneer die toorn van God oor hulle uitgestort sal word tydens die komende verdrukking (Op. 6:12-17). Die Here gee aan hulle nog ‘n kans om tot bekering te kom.

Omdat die tyd vir fisiese oordele vinnig nader kom, sal God die fisiese mobilisering van vyandige magte in die Midde-Ooste toelaat, spesifiek ook in Israel. Hierdie land is nie net die tuiste van Israel nie, maar ook die geboorteplek van die Christendom en die land vanwaar die Messias die wêreld sal regeer. Om magte teen Israel te monster, wat God se land is (Eseg. 20:42; 38:16), kom daarop neer om God, sy Seun, sy Woord én sy volk te verwerp.

Die Here het gesê: “Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem” (Sag. 14:2). Jerusalem is nie net die hoofstad van Israel nie, dit is ook die stad waar die Messias die prys vir die sondes van die hele wêreld betaal het, waar die Heilige Gees uitgestort en die Christelike kerk gevestig is, en vanwaar Christus opgevaar het hemel toe. Hy sal spoedig na Jerusalem terugkeer om sy vyande te oordeel, ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies te red, en sy duisendjarige vrederyk te vestig (Sag. 14:4-16).

Die oordeel oor die nasies sal bespoedig word as gevolg van hulle haat, verwerping en isolering van Israel. Hoe meer Israel deur sy voormalige vriende in die steek gelaat word, hoe meer sal sy vyande planne beraam om hierdie land in te val in ‘n poging om sy regmatige eienaars te vernietig. Hierdie nasies sal egter onbewus daarvan wees dat hulle ‘n land betree waar hulle deur God geoordeel gaan word. Die Here sê aan die leier van ‘n multinasionale invalsmag: “Ek sal jou teen my land laat aankom... Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is” (Eseg. 38:16; 39:4).

Israel sal geweldige vyandigheid ervaar gedurende die komende 70ste jaarweek van Daniël (Dan. 9:27). Daar sal eerstens die Russies/Arabiese inval in Israel wees (Eseg. 38 & 39). Daarna sal hulle ‘n verbond met die valse messias sluit, wat in die middel van die sewe-jaar lange verdrukking verbreek sal word wanneer hy homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4; Op. 13:15). Die Antichris sal dan ‘n uitwissingsoorlog teen Israel verklaar, en hulle sal in groot haas na ‘n plek in die woestyn moet vlug (Matt. 24:15-22; Op. 12:13-17). Wanneer hulle na aan die einde van hierdie jaarweek na Jerusalem sal terugkeer om die koms van die ware Messias op die Olyfberg in te wag, sal hulle in die ontplooiing van ‘n internasionale mag teen die komende Messias vasgevang word (Op. 19:19-20). By daardie geleentheid sal die vyande van Israel finaal vernietig word, terwyl ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies gered sal word.

‘n Christelike strategie

Wat behoort ons strategie in die huidige situasie te wees? Hou aan om Christus aan alle nasies te verkondig, ook aan Israel. Moenie oor Christus swyg net omdat dit vir sekulêre en ortodokse Jode aanstoot kan gee om oor Hom te praat nie. Christus moet die belangrikste onderwerp van ons bespreking wees, want Hy is nie net die Redder van die mensdom nie (Hand. 4:12), maar ook hulle Regter (Hand. 17:30-31) en komende Koning (Op. 11:15; 19:11-16). Ons kan Hom nie uit enige gesprek oor die eindtyd weglaat nie, “want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Die ewige bestemming van alle mense hang van hulle verhouding met Hom af – hulle is vír Hom of téén Hom.

Dit is verkeerd om met betrekking tot Israel sekondêre sake tot die belangrikste onderwerp van bespreking te verhef, bv. Israel se regte op hulle grondgebied. Dit is maar net een van verskeie Bybelse beginsels of beloftes wat verdedig moet word. Wanneer ons op die breë prentjie van eindtydse profesieë fokus, moet ons versigtig wees om nie die onvermydelike te probeer voorkom nie. Die komende verdrukking, asook die ontplooiing van internasionale magte vir oorloë in die Midde-Ooste, is onvermydelik en gaan beslis gebeur. Die goddelose mensdom vra daarvoor en God sal dit toelaat sodat Hy sy doel met hulle kan bereik.

Ons kan hoogstens die nasies waarsku teen hulle antichristelike en anti-Joodse houdings in die hoop dat sommige van hulle sal luister en gered sal word. Die meerderheid sal egter met hulle bose planne voortgaan. Ons moet Israel ook op ‘n sensitiewe maar baie duidelike manier waarsku teen die gevolge van die voortgesette verwerping van die Messias, in die hoop dat sommiges sal luister en gered sal word. Die meerderheid sal egter hardkoppig op pad na die benoudheid vir Jakob voortgaan. Hopelik sal hulle tog weet wat gebeur het wanneer die Bruid van die Messias skielik verdwyn.

Watter nut het dit om miljoene dollars aan ‘n veldtog te bestee om die nasies teen hulle anti-Joodse dade te waarsku, terwyl ons nalaat om hulle geestelike armoede aan te spreek? En van watter nut is dit om Israel se Bybelse mandaat op hulle land te verdedig, terwyl ons nalaat om hulle te waarsku teen hul eie aandadigheid aan hulle probleme? Hulle verbeur volledige goddelike beskerming as gevolg van hulle nasionale weiering om die Messias te aanvaar. Hoe kan ‘n groot herlewing aan hulle belowe word sonder ‘n tyd van swaar beproewing, aangesien dit volgens die Bybel al is wat hulle sal dwing om van gedagte te verander? En hoe kan onbybelse beloftes aan hulle gemaak word dat hulle nooit weer uit hulle land en hulle heilige stad verdryf sal word nie, terwyl die Here sê dat Jerusalem ingeneem en die helfte van sy inwoners in ballingskap sal gaan (Sag. 14:2), en ook dat Israel vir 3½ jaar lank na die woestyn sal moet vlug? (Matt. 24:15-22; Op. 12:13-17).

Art Katz

Die ontslape Art Katz was een van die prominente Messiaanse Jode van moderne tye. Sy onwrikbare toewyding aan God se raadsplan vir Israel het hom ongewild gemaak by baie Jode sowel as nie-Joodse gelowiges wat slegs daarop ingestel is om onvoorwaardelike seëninge aan Israel te beloof. Art het ‘n hart van groot meegevoel gehad en dit was sy innige begeerte dat Jode oral met God versoen moet word deur Jesus, die Messias, maar hy het terselfdertyd baie duidelik God se oordele oor onbekeerlike Jode verkondig. Hy het hulle aan God se oordele in die verlede herinner, en hulle verseker dat daar nog erger oordele aan die kom is vir diegene onder hulle wat weier om hulle tot God te bekeer. Art se boeke en artikels is steeds beskikbaar; inligting hieroor is op sy bediening se webblad: www.artkatzministries.org.

In sy boek, The Holocaust – Where was God? An Inquiry into the Biblical Roots of Tragedy, (1998), maak Art Katz verskeie duidelike stellings oor Israel se aandeel in die vyandigheid wat hulle beleef. Die aanhalings word gebruik met die toestemming van Art Katz Ministries.

“Ons het geen perspektief van God as Regter nie; gevolglik het ons ‘n hoë prys betaal vir ons gebrek aan insig oor God in oordeel sowel as in genade, in gestrengheid sowel as in goedheid. Ons is nie eers bewus van God se handelinge met Israel (in die verlede, hede en toekoms) nie, en neem gevolglik nie kennis van die mees betekenisvolle openbarings van God in die Skrif nie. Daar is iets omtrent God in oordeel wat Hom openbaar soos wat Hy op geen ander manier geken kan word nie. Tog is dit die een attribuut van God waarvan ons feitlik instinktief wegskram. Ons kan nie die God van genade, liefde en regverdigheid versoen met die God wat oordele en lyding oor mense – veral Joodse mense – bring nie. Indien óns God sulke dinge doen, dan word juis dit wat vir ons pynlik en onaanvaarbaar is en wat dreig om ons godsdienssin te vernietig, een van die mees kosbare openbarings van God. Is dit nie in hierdie oënskynlike weerspreking, as ons dit goed deurdink, dat die diepste openbaring van God gevind kan word nie?” (bl. 9).

“Die wederregtelike toeëiening van die Messias se lyding as ons eie, is die noodwendige gevolg van ‘n Jodedom wat weier om Hom te aanvaar, en as gevolg daarvan verplig is om ‘n verklaring vir ons eie historiese lyding te vind. As ons die Messias, Hy wat só misvormd was dat sy voorkoms nie dié van ‘n mens was nie, as die vervulling van Jesaja 52:13–53:12 verwerp en dan vir Israel in sy plek stel, stuur ons onvermydelik op botsende verklarings af. Die uiteindelike logika van sy verwerping verplig ons dan nie net om teen die Messias gekant te wees as Hy sou kom nie, maar ook om sy posisie te begeer – om self die Messias te wees, om self die lydende Kneg te wees, om self vergoddelik te word, om self die Messiaanse hoop te wees, en om self die ideale beskawing tot stand te bring wat die finale antwoord vir die nasies sal wees” (bl. 30).

“God het ‘n geskil met ons omdat ons van Hom vervreem geraak het. Ons is steeds onwillig om die betekenis van ons eie geskiedenis en die ontsettende gevolge van ons vervreemding van God in die oë te kyk. Ongelukkig is die beoordeling van rampe as ‘n gevolg van (en oordeel oor) sonde geheel en al in stryd met die hedendaagse Joodse manier van selfbeoordeling. Ons is nie eers van só ‘n moontlikheid bewus nie en oorweeg dit gevolglik nie. Ons is inteendeel grootliks onder die indruk van ons eie goedheid en selfgeregtigheid” (bl. 78).

“Rampe, as oordele wat vervul word, is God se voorlaaste voorsiening om die behoefte tot bekering by diegene op te wek wat andersins glad nie van hierdie behoefte bewus sou wees nie. Ons onvermoë om rampe op hierdie manier te beoordeel en sodoende die hand van die Here in ons oordele te sien, lei noodwendig daartoe dat ons ander mense daarvoor blameer... Diegene wat ander mense blameer, eindig gewoonlik by die beskuldiging van God. As ons nie onsself as die skuldige party in ons oordele sien nie, sal ons noodwendig op die punt kom waar ons God as boos sal beskou. Hý word beoordeel en skuldig bevind. Dit is ironies dat die mens wat homself nie as die grondoorsaak vir sy eie oordele kan raaksien nie, daartoe oorgaan om God te veroordeel volgens die siening dat Hy weens ‘n inherente defek in sy skepping oënskynlik magteloos was om tussenbeide te tree en tot die redding van die Jode in hulle groot benoudheid te kom. Ons het ‘n baie groter ingesteldheid om met God fout te vind as met onsself. Dit in sigself som ons betreurenswaardige toestand op... Hoe belangrik is dit nie om ons tragiese verlede reg te vertolk nie! Ons sou dwase wees om nie die voordeel van historiese ervarings te gebruik om te voorsien wat weer in die toekoms sal gebeur indien ons nie die grondoorsaak van ons probleme raaksien en ons daarvan bekeer nie” (bl. 79-80).

“God strek Homself in sy groot genade na ons uit en stuur gesante na ons toe, maar ons het in die verlede telkens hierdie gesante verwerp. Deur ons herstelkrag vind ons elke keer maniere om ons rampe te oorkom. Sodoende skuif ons dan die blaam van onsself af weg sodat ons nooit die ware betekenis daarvan as oordele in die lig van ons nasionale sonde sien nie” (bl. 81).

“Ons het ‘n groter verantwoordelikheid as die nie-Jode omdat ons die verbondsvolk is. Die Here het ons uitverkies en ons het die voordeel gehad van sy openbarings aan ons, van die wet wat by Sinai aan ons gegee is, en van alle openbarings daarna wat eerste na ons as sy getuies gekom het. Oor ons rus daar dus ‘n groter oordeel. In watter opsig is die Jode van vandag anders as die Jode op wie God se oordele in die verlede geval het? Die blote verloop van tyd het niks aan ons toestand verander nie. Om dus te beweer dat die huidige geslag Jode geen oordele verdien nie, is ‘n verwaande manier om te impliseer dat die historiese oordele onverdiend en ongeldig was. Om die geldigheid en geregtigheid van daardie oordele nietig te verklaar, kom daarop neer om ook vir God nietig te verklaar. Die God van toorn en oordeel tóé, is nóú ook God. Hy sal weer, om dieselfde redes as in die verlede, sy toorn en oordele uitstort voordat hierdie bedeling tot ‘n einde kom. Dit is waarom Hy ons oproep om ons nou van ons onafhanklike eiesinnigheid en menslike opinies te bekeer en onsself aan die Heilige van Israel oor te gee terwyl ons nog kan. In sy genade roep Hy ons op tot bekering voordat die groot eindtydse oordele uitgestort word (kyk Jes. 13:6; 65:6-7; Jer. 30; Dan. 12:1; Joël 2; Amos 8:8-10; Sef. 1:12; Sag. 14:1-5)” (bl. 88).

“Ek is oortuig dat hierdie oordele baie naby is, en dat net die hand van die Here dit nog weerhou. Alles is in plek en kan in ‘n oomblik tot uitbarsting kom. Die juk van ons Joodse ongeloof en onbetrokkenheid by God móét ons tot ‘n val bring. As Hy sy hand van ons af wegneem, sal ons onmiddellik in vernietiging en ondergang wegsink. Ons is reeds onder God se veroordeling totdat ons dié Een ontvang wat ons veroordeling op Homself geneem het, naamlik die Messias van Israel – Jesus van Nasaret. In die voortgesette verwerping van God se genadegawe verkeer alle Israeli’s onder die swaard van veroordeling, tot op dié oomblik wanneer God sy hand sal wegneem en die oordele nie langer sal terughou nie. Ek sou liewer verkeerd bewys wou word, maar ek glo dat die huidige geslag Jode vernietiging op ‘n wêreldwye skaal gaan ervaar, wat veel erger as die Nazi-era sal wees” (bl. 89).

“Ons gaan geweldig gehaat, vervolg en skielik verdryf word sodat ons sal moet vlug met net die klere aan ons lyf – sonder om te weet waarheen ons gaan. Ons gaan dubbel vir al ons sondes ly, maar die Here het ook gesê: ‘Ek sal herstel.’ Hoe belangrik dan om te glo dat die God wat oordele beloof en dit volvoer, ook dieselfde God is wat herstel beloof en dit sal vervul... As ons nie in God se oordele as die vervulling van sy Woord glo nie, vernietig ons ook alle hoop om in sy toekomstige ingryping te glo. Die scenario vir die laaste dae is die herstel van Israel deur die grenslose genade van God wat onverdiend aan ons geskenk word. Die Jode is verteenwoordigend van die hele mensdom. In ons menslikheid maak ons ‘n stelling waardeur alle ander mense gewaarsku moet word. Die Here het ons as sy getuies teenoor ander mense gekies om Homself aan hulle te openbaar – indien nie deur ons goeie voorbeeld nie, dan wel deur die gevolge van ons verdorwenheid” (bl. 90).

“Die nasies wag onbewustelik op ons herstel na God, omdat ons ‘n teokratiese bestemming het as ‘n ‘koninkryk van priesters’ (Ex. 19:6) en ‘n ‘lig vir die nasies’ (Jes. 42:6)... God wag op ons om die dood van ons Messias vir onsself toe te eien en sodoende ons verlossing aan die gang te sit. As ons op enige manier probeer om hiervan vrygestel te word, is ons hopeloos verlore. Die mag van ons misleiding en ons selfregverdiging wat weerspieël word deur ons voortgesette verwerping van Jesus van Nasaret, stel ons in konflik met God en moet verbreek word. Hierdie selfde God gaan aan ons ‘n historiese geleentheid bied om ons patetiese mislukking te erken. Dié van ons wat die komende verdrukking sal oorleef, sal nooit weer misluk nie, want God sal aan ons nuwe harte gee” (bl. 92).

Slotopmerkings

Die Bybel se eindtydse scenario is vinnig besig om te ontplooi. Daar moet in hierdie tyd ‘n nuwe toewyding wees om uit te beweeg en die evangelie aan alle nasies te verkondig, sodat die huis van die Here vol kan word (vgl. Luk. 14:23). Israel moet presies dieselfde boodskap hoor, en dit is die rede waarom ons die opdrag het om hulle jaloers te maak met die verlossing wat ons gekry het deur geloof in die Messias wat deur hulle vaders verwerp is (Rom. 11:11). Hulp aan Jode wat na hulle land terugkeer, is ook ons plig, maar grootskaalse pogings om onbekeerlike Israel se gebiedsregte en ander nasionale belange te beskerm, behoort nie in die huidige situasie ‘n hoë prioriteit te wees nie.

Israel moet verstaan dat hulle toekoms nie in die hande van die VN, die VSA of enige ander nie-Joodse volk is nie – ook nie in die hande van hulle Christelike ondersteuners nie. Israel is bestem om ná die afsluiting van die kerkbedeling ‘n Messiaanse staat te word, wat vereis dat die Messias ten volle deur sy volksgenote na die vlees erken, gedien en aanbid moet word. Jesus is die Koning van die Jode wat ook die hele wêreld van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem sal regeer (Hand. 15:16-17). Slegs Hy is die vrede van Israel en Jerusalem, daarom bid ons in werklikheid vir sy wederkoms wanneer ons vir die vrede van Jerusalem bid.

Solank as wat Israel nie met die Messias versoen is nie, sal hulle nie vrede en nasionale stabiliteit ervaar nie. Dit is onvanpas vir nie-Joodse gelowiges om in die huidige situasie sulke toestande te probeer bevorder. Ons moet beslis die nasies en hulle leiers oor die toekomstige Messiaanse staat inlig, en spesifiek ook oor die oordele wat op dié nasies rus wat Israel en Jerusalem durf aanval. Terselfdertyd moet Israel egter ten volle bewus gemaak word van die oordele wat wag op agnostiese en ongelowige Jode, sowel as ortodokse Jode wat weier om Jesus as Messias te erken en te aanvaar.

Ons moet met basiese geestelike sake besig wees. Elke gelowige moet hom- of haarself persoonlik toewy aan voorbereidings om die hemelse Bruidegom te ontmoet wanneer Hy kom. Het jy ‘n hart wat met Christus se liefde vervul is? Vertrou jy Hom om jou deur die Heilige Gees volkome heilig te maak? (1 Thess. 5:23-24). Onthou dat “Christus die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).

Christus sal dieselfde vir Israel doen wanneer hulle met berou en bekering voor Hom neerbuig. Daar is ‘n Messiaanse profesie wat na hierdie wonderlike gebeurtenis verwys: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem... En die land sal rouklaag by geslagte” (Sag. 12:10-12).

Wanneer dit gebeur het, sal Israel se nasionale belange nie meer deur die nasies betwis word nie, maar inteendeel bevestig word: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek. So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23; vgl. Jes. 60:11-14; Jer. 3:17).

Op die oomblik is ons egter in ‘n radikaal verskillende situasie. Die bevryde mens sien die Bybel, die evangelie en Christelike lewensbeginsels as te beperkend en gooi hulle oorboord. Vyandige nasies beplan die vernietiging van Israel, omdat hulle dié land as ‘n struikelblok vir die implementering van hulle nuwe wêreldorde sien. Hulle is in ‘n demonies-geïnspireerde wedloop na Armagéddon en sal nie na die stem van rede luister nie. Israel, wat veronderstel is om “Stryders vir God” te wees soos wat die naam “Israel” aandui, is vervreem van hulle Messias, sonder geestelike weerbaarheid, en verbeur gevolglik die oorvloedige seëninge van God. Die verbond wat God met hulle het, verseker nietemin die oorlewing van ‘n oorblyfsel, maar nie voordat groot benoudheid oor hulle gekom het nie.

Met die oog op hierdie donker vooruitsigte moet Christene bid, getuig en alle mense by elke geleentheid waarsku. Die God van oordeel is ook die God van genade, maar Hy het dit aan ons oorgelaat om tussen die seën en die vloek te kies. Lank gelede is Israel voor dieselfde keuse gestel, en elke nuwe geslag Jode moet steeds dieselfde keuse maak:

“Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die Here jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon in die land wat die Here aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee” (Deut. 30:19-20).

Ons moet die regte geestelike besluite neem om ook fisies te kan oorleef en God se seëninge te kan geniet. As ons dit nie doen nie, sal ons lewensomstandighede en eksterne verhoudings met ander mense en volke lelik skeef loop, selfs tot só ’n mate dat ons onsself aan vloeke kan onderwerp. Wie moet in die eerste instansie geblameer word vir die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C., asook die daaropvolgende internasionale verstrooiing van Israel? Joodse historici sê dat die Romeinse Ryk al die blaam moet dra. Die Messias sê egter dat Israel ten diepste geblameer moet word: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaar maak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! ... Daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie” (Matt. 23:37-38; 24:2; vgl. Luk. 19:41-44).

Gaan ons dieselfde foute herhaal deur net Israel se vyande te blameer vir hulle huidige dilemma? Mag dit ver van ware gelowiges in die Messias wees om die diep geestelike dimensie van die huidige konflikte in die wêreld buite rekening te laat.

Andrew Murray 32