Print

Die Derde Intifada

Written by Prof Johan Malan.

Die stygende golf van Arabiese opstande in die Midde-Ooste is ‘n oorsaak tot groot kommer vir Christene, Jode, en alle mense wat vreedsame oplossings verkies bó ‘n gewelddadige stryd vir die oplossing van politieke, godsdienstige en ander geskille. Die situasie is vinnig besig om te versleg, terwyl revolusies van een land na ‘n ander versprei met die doel om regerings tot ‘n val te bring en deur Islamitiese volksregerings te vervang. Die kring van geweld is besig om nouer getrek te word rondom Israel, en die toneel is reeds voorberei vir ‘n “Derde Intifada” deur die Palestyne en hulle miljoene militante ondersteuners in naburige Moslemlande.

Hoewel die verkryging van menseregte as ‘n verskoning aangebied word vir die huidige opstande, is daar duidelik ‘n baie sterk Islamitiese motivering vir hierdie opstande. Islamitiese jihads (sogenaamde ‘heilige oorloë’) het in moderne tye ná die herstel van Israel in 1948, baie gewild begin word. In die 1980’s was Islamitiese revolusies reeds so sterk gevestig dat prof. E. Gellner in sy boek, Muslim Society (1983), gesê het: “Dit is duidelik dat Islam die grootste politieke ondersteuning van al die wêrelgodsdienste in die 20ste eeu geniet... Dit slaag daarin om intense revolusionêre ywer op te wek en om met uiterste radikalisme te verenig. As ‘n medium vir politieke mobilisasie het Islam Marxisme, asook alle ander godsdienste, verbygesteek.”

Die Islamitiese jihad het twee doelstellings. Die een is die omverwerping van “bose” regerings in Moslemstate omdat die leiers net in naam Moslems is. Dit word as ‘n godsdienstige plig gesien om hulle tot ‘n val te bring en deur fundamentele Islamitiese regerings te vervang. Die ander doel is om teen nie-Moslemstate te veg – veral Israel en Amerika. Hoewel Israel die jihadiste se belangrikste teiken is, word Amerika daarvoor aanspreeklik gehou dat hulle Israel met baie geld en moderne wapentuig ondersteun en daardeur hulle reg op voortbestaan erken en verseker. Dit is vir die Moslems die belangrikste rede waarom hulle Israel steeds nie kan oorwin nie. In die lig hiervan verwys radikale Islam na Israel as Satan en Amerika as die Groot Satan. Hulle wil altwee hierdie lande tot ‘n val bring en skreeu of vertoon dikwels die slagspreuke: “Death to America!” en “Death to Israel!”

Tussen 1948 en 1980 was Israel betrokke by verskillende oorloë teen koalisies van Arabiese state. In 1987 het daar ‘n nuwe dimensie in die stryd ontwikkel as gevolg van binnelandse Arabiese opstande onder die Palestyne. Hulle gebruik ‘n wye reeks “wapens” teen Israel, wat wissel vanaf demonstrasies en klipgooiery tot by die gebruik van gewere, vuurpyle, missiele en selfmoordbomaanvalle. Die eerste Palestynse opstand (Intifada) het tussen 1987 en 1993 plaasgevind. Die tweede Intifada het in September 2000 op die Tempelberg begin toe Ariel Sharon, ‘n voormalige Israelse premier, die Tempelberg besoek het. Hierdie Intifada staan ook as die Al-Aksa Intifada bekend, omdat dit by dié moskee op die Tempelberg begin het. ‘n Derde Intifada word vir 15 Mei 2011 beplan.

Die stryd kring uit

Die Derde Intifada het ‘n wêreldwye ondersteuningsbasis, en is op ‘n heel ander vlak as die vorige opstande. Die nuwe opstand word tereg deur een van hulle frontorganisasies as die “Elektroniese Intifada” beskryf, omdat dit ruim gebruik maak van Internet webblaaie, Facebook, Twitter, selfone, en ander elektroniese media ten einde steun vir hulle beweging te verkry. Die webblad www.electronicIntifada.net publiseer hoogs emosionele stories oor beweerde moorde en gruweldade wat deur Israel se Weermag teen Palestynse burgerlikes gepleeg is, en op grond daarvan doen hulle ‘n beroep vir massa-optrede teen Israel. Hulle voer ook ‘n internasionale veldtog om Israel in die buiteland in ‘n slegte lig te stel. Op hulle webblad kondig hulle triomfantelik aan dat negatiewe beoordeling van Israel sterk toeneem in die VSA en die Verenigde Koninkryk.

Facebook-blaaie word gereeld geopen om Palestyne wat verstrooid in ander lande woon, aan te moedig om gelyktydig op 15 Mei 2011 terug te keer na Israel en die Joodse staat te oorweldig. Een van hierdie blaaie was só radikaal dat hulle die vermoording van alle Jode bepleit het, asook die bevryding van Jerusalem deur geweld. Die bladsy is spoedig daarna deur Facebook verban, maar feitlik dieselfde boodskap word steeds deur verskeie ander Facebook-blaaie en Arabiese webtuistes uitgedra.

Een van die grootste en mees populêre Moslem-blaaie op Facebook is getiteld: “Word deel van die Palestynse Intifada.” Hulle belangrikste mikpunt is: “Om die Profeet nommer een op Facebook te maak.” Afgesien van al die lof wat Allah toegeswaai word, asook die profeet Mohammed as die stigter van Islam, bied die webblad ook verskeie skakels aan na ander blaaie wat ‘n Derde Intifada aanmoedig as ‘n verenigde poging om die Joodse staat tot ‘n val te bring.

Hierdie blad het spoedig meer as drie miljoen ondersteuningstemme gekry van Facebook lesers regoor die wêreld. Die organiseerders doen ‘n beroep op miljoene Arabiere in die Midde-Ooste om na Israel op te trek en hulle “Reg van Terugkeer” af te dwing, en sodoende die weg te baan vir die massa-immigrasie van miljoene Arabiere. Die datum vir die opmars is vir 15 Mei bepaal, die dag waarop die staat Israel gestig is. Die Arabiere verwys na hierdie dag as “Nakba” of “Tragedie”.

‘n Ander Arabiese Facebook-blad is “Maseera 2011”. In ‘n verklaring op hulle blad sê hulle: “Ons doel is om op 15 Mei 2011 daadwerklik die “Reg van Terugkeer” opmars na Palestina te steun. Ons beoog om op daardie dag die grense van Palestina uit Libanon, Sirië, Jordanië, Egipte, Gasa en die Wesbankgebied oor te steek, na ons tuisland terug te keer en daardeur ons reg om terug te keer, te bevestig.”

Een van die faktore wat ‘n ernstige bedreiging inhou vir eenheid onder die ondersteuners van die Derde Intifada, is die wye politieke kloof tussen die Fatah en Hamas partye in die Palestynse gebiede. Hulle is in ‘n magstryd vir beheer oor die Palestynse Owerheid gewikkel, en die wedywering tussen hulle kan maklik in ‘n burgeroorlog ontaard. Die Fatah party van President Mahmoud Abbas is besig om hulleself te versterk deur onder andere soldate in Jordanië te laat oplei. Hierdie soldate sal óf in ‘n oorlog teen Israel gebruik word, óf teen strydende faksies in die Palestynse gebiede.

Palestynse onafhanklikheid

Internasionale ondersteuning is vinnig besig om toe te neem vir Palestina se onafhanklikheidsverklaring in September 2011. Baie van die ondersteuners hoop dat hierdie doel deur ‘n onderhandelde skikking tussen Israel en die Palestynse Owerheid bereik sal word. Die tyd hiervoor is egter besig om min te word, en daar is nie besliste aanduidings dat Israel bereid is om te voldoen aan die hoogs onredelike voorwaardes van die verdeling van Jerusalem en ‘n algehele onttrekking uit die hele Wesbankgebied wat in die 1967-oorlog verower is nie. ‘n Onttrekking uit die Golan-hoogtes word ook geëis.

Indien Israel sou nalaat om te onttrek, sal hulle onder ‘n stortvloed van internasionale kritiek deurloop en ‘n verstote staat word. Aan die ander kant besef Israel dat selfs ‘n onttrekking na pre-1967 grense nie die permanensie van ‘n verkleinde Israel sal waarborg nie, omdat druk dan op hulle toegepas sal word om na die pre-1948 grense terug te trek en sodoende van die wêreldkaart af te verdwyn. Dit is presies wat Israel se buurstate eis:

“Kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes. Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ‘n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Amalek, Filistia saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit” (Ps. 83:3-9).

Daar word dus ‘n uitwissingsoorlog teen Israel beplan en dit kan enige tyd uitbreek, veral as Israel aanhou om teen die druk vir groter toegewings weerstand te bied. Planne is reeds in plek vir ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring van Palestina indien Israel sou weier om aan die voorwaardes van die Palestynse Owerheid en die internasionale gemeenskap te voldoen. Dit is ‘n uitgemaakte saak dat die VN, insluitend Amerika en die Westerse moondhede, ‘n Palestynse staat sal erken wat onder sulke omstandighede tot stand sal kom.

Sal Israel aan hierdie voorwaardes van politieke selfmoord voldoen, of sal hulle eerder ‘n oorlog teen die menigte van hulle vyande voer? Die Bybel het ‘n internasionale beleg van Jerusalem voorspel (Sag. 12:2-3), en ook ‘n tyd van groot benoudheid vir Israel (Jer. 30:7). Donker oorlogswolke is besig om oor die Midde-Ooste saam te pak.

Die Broederskap-verbintenis

Die Moslem Broederskap is die grootste politieke opposisie in die meeste Arabiese state. Die groep is die wêreld se oudste en grootste politieke organisasie in Islam, en ook die mees invloedryke Islamitiese beweging. Die leuse van die Broederskap is: “Islam is die oplossing.” Die beweging is in 1928 in Egipte gestig deur ‘n onderwyser en Moslemgeleerde, Hassan al-Banna. Sedert 2005 het die Moslem Broederskap in Egipte ook ‘n belangrike beweging aanlyn op die Internet geword. ‘n Gewilde gespreksforum word deur hulle behartig by (http://ana-ikhwan.blogspot.com.

Die Broederskap in Egipte was hoofsaaklik verantwoordelik vir die organisering van die massabetogings wat na die val van president Hosni Moebarak en sy regering gelei het, en hulle sal waarskynlik die kern van die volgende regering in Egipte vorm. Dit is hoogs waarskynlik dat die Broederskap Egipte se 32-jaar oue vredesverdrag met Israel sal kanselleer, tensy die Joodse staat voldoen aan al die eise van die Palestynse Owerheid en die internasionale gemeenskap.

Die Islamitiese Weerstandsbeweging, of Hamas, is in 1987 in Gasa gestig. Hulle is ‘n vleuel van die Broederskap en is tot stand gebring deur welsyns- en ander groepe wat met die Broederskap geaffilieer is, en wat sterk openbare steun geniet het. Gedurende die eerste Intifada (1987-1993) het Hamas homself omskep in ‘n militêre organisasie, wat een van die sterkste militante bewegings onder die Palestyne is. Met hulle oorname van die Gasastrook in 2007 was dit die eerste keer sedert die Soedanese staatsgreep van 1989 dat ‘n Moslem Broederskapgroep politieke beheer oor ‘n geografiese gebied verkry het.

Die Moslem Broederskap is in die 1930’s in Sirië gevestig. Gedurende die eerste dekade van onafhanklikheid was hulle deel van die amptelike opposisie en het ‘n aantal setels in die parlement gehad. Ná die 1963 staatsgreep wat die Baath-party aan die bewind geplaas het, is hulle egter verban. Die Broederskap is egter deur ‘n sosiale netwerk steeds goed gevestig in Sirië en het buitelandse kantore in Ciprus en Londen. In 1980 is lidmaatskap van die Broederskap deur Sirië se Noodwet No. 49 tot ‘n halsmisdaad verklaar, en dit is nou nog so. Desnieteenstaande is ‘n streekkantoor van die Palestynse Hamas-groep wat aan die Broederskap verbind is, in Sirië se hoofstad, Damaskus, geopen en word hulle deur die Siriese regering ondersteun (Wikipedia: The Muslim Brotherhood).

Die Broederskap is hoofsaaklik verantwoordelik vir die huidige opstande in Sirië. Volgens Israel se Eerste Minister, Benjamin Netanjahu, is die presidentskap van Bashar Assad in Sirië beter vir die belange van Israel as enige ander regering wat in sy plek mag kom. Netanjahu glo dat ‘n Islamitiese regering wat aan die Moslem Broederskap verbonde is, die mag in Sirië sal verkry. Die Israelse Eerste Minister het in ‘n onderhoud gesê dat hoewel Assad bande met Iran het, betrekkinge met hom steeds meer aanvaarbaar is as om te onderhandel met ‘n regering wat bande met die Moslem Broederskap het.

Die Sjiïtiese bedreiging

Israel staar ook ‘n baie ernstige bedreiging van uitwissing in die gesig vanuit die vesting van Sjiïtiese Islam in Iran. President Ahmadinejad het al ‘n paar keer in die openbaar gesê dat Israel van die wêreldkaart af uitgewis moet word. Iran het ‘n skrikwekkende arsenaal van missiele wat enige teiken in Israel kan tref, en hierdie land is ook op die punt om ‘n kernmoondheid te word. Iran se militêre verdrag met Rusland verseker ‘n groot toevloei van gesofistikeerde wapens uit Rusland na hulle, asook na Sirië wat ‘n soortgelyke verdrag met Rusland gesluit het.

Twee van Iran se voorposte in hulle stryd teen Israel is Hamas in Gasa en Hizboellah in Libanon. Hierdie terroristegroepe het hulleself in politieke partye omskep, en hulle word deur Iran gefinansier, opgelei en gemotiveer, en ook bewapen met duisende vuurpyle en missiele om teen Israel te gebruik. Sirië ondersteun hulle ook. Hizboellah het in verkiesings beheer oor Libanon verkry, en Hamas oor Gasa. Hulle is belangrike magte met wie Israel, en ook politieke opponente in hulle eie gebiede, rekening moet hou. Hamas is wel godsdienstig deel van die Broederskap, maar vir logistieke steun vir hulle stryd teen Israel maak hulle hoofsaaklik op Iran staat.

Dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat Iran se leier vir die nabye toekoms ‘n baie sterk verwagting het op die koms van Islam se Imam Mahdi. Volgens hom sal die Imam kom om Islam te verenig, die Jode en Christene te vernietig, en die hele wêreld aan die gesag van Allah en die Koran se Sharia-wette te onderwerp. Ahmadinejad is baie opgewonde oor die opstande in die Arabiese wêreld, omdat hy glo dat die Imam Mahdi slegs sal kom wanneer daar chaos en wanorde op aarde is. Hy sien dit as sy taak om die chaos te help bevorder.

Iran speel ‘n groot rol om die weg vir die verskyning van die Sjiïete se Imam Mahdi voor te berei. Volgens ‘n webblad van die Uitsaaikorporasie van die Islamitiese Republiek van Iran sal die Mahdi binnekort sy triomfantelike verskyning by die Ka’aba in Mekka maak. Hy sal dadelik ‘n militêre mag op die been bring om Islam se vyande in ‘n reeks apokaliptiese oorloë te verslaan. Een van sy grootste oorwinnings sal teen die Sionistiese vyand en hulle bondgenote in Jerusalem wees.

Die Imam sal verder noord beweeg en sy hoofkwartier by Kufa naby die antieke stad Babilon in Irak oprig. Volgens hierdie webblad sal die profeet Jesus, seun van Maria, saam met die Mahdi verskyn en hom help om die wêreld te islamiseer, ‘n einde aan onderdrukking te bring en geregtigheid oral laat geskied. Daaglikse gebede word in Iran opgesê waarin Allah versoek word om die koms van die Mahdi te verhaas.

Die diplomatieke oorlog

Generaal Amos Gilad, hoof van Israel se Diplomatieke en Sekuriteitsburo, het gewaarsku dat Israel ‘n ernstige vorm van isolasie in die gesig staar wat net so erg as ‘n oorlog sal wees, indien die Verenigde Nasies Palestina in September vanjaar as ‘n onafhanklike staat erken. Volgens hom is die Palestynse Owerheid besig om ‘n internasionale diplomatieke aanval op Israel te organiseer. Die belangrike besluit wat Netanjahu ten opsigte van September se beoogde onafhanklikheid van Palestina moet neem, is of hy ‘n ooreenkoms met die Palestyne moet aangaan en homself al die internasionale druk spaar, en of hy moet aanhou om die Palestyne te opponeer en sodoende ‘n Derde Intifada te veroorsaak. Gilad sê dat as Israel nie onderhandelinge met die Palestyne voer nie, Israel se diplomatieke isolasie ‘n situasie sal skep waarin enige insident of botsing met die Palestyne daartoe sal lei dat ‘n groot vuur van verset teen Israel aan die brand gesteek sal word wat deur middel van Twitter en Facebook vinnig sal versprei.

Gilad se opmerkings is dieselfde as dié wat onlangs deur die Minister van Verdediging, Ehud Barak, gemaak is tydens ‘n toespraak by die Nasionale Sekuriteit-Instituut in Tel Aviv. Hy het gewaarsku dat ‘n “diplomatieke tsunami” oor Israel sal spoel indien die wêreld teen September goedkeuring verleen vir die stigting van ‘n Palestynse staat ooreenkomstig die 1967 grense. Barak het beklemtoon dat Israel sy eie politieke inisiatiewe moet neem om die konflik te beëindig en ‘n ramp te voorkom.

Gevolgtrekkings

Israel word van verskillende kante af deur ‘n aantal ernstige gevare bedreig:

  • Die Derde Intifada met sy sterk godsdienstige en politieke basis, tesame met hoogs emosionele oproepe vir Palestynse onafhanklikheid wat deur doeltreffende elektroniese media na die massas uitgedra word, hou ‘n baie groot bedreiging in vir die interne stabiliteit van die Joodse staat.
  • Die beplande onafhanklikheidsverklaring van ‘n Palestynse staat later hierdie jaar, met of sonder Israel se toestemming, bring ‘n wesenlike gevaar mee vir die voortbestaan van Israel as ‘n onafhanklike staat met Jerusalem as hulle hoofstad.
  • Hoe gouer Israel aan internasionale druk toegee om hulle land en hoofstad te verdeel, hoe gouer sal hulle ook die einde van die pad as ‘n lewensvatbare staat bereik. Hoe langer hulle die internasionale druk weerstaan, hoe gouer sal hulle ‘n geïsoleerde en verstote staat word. Nie een van die twee opsies is aanvaarbaar nie.
  • Die opstande in verskeie Arabiese state kan onheilspellende gevolge hê omdat hulle heel waarskynlik die weg sal baan na Islamitiese hervormings wat Israel se reg op voortbestaan sterk sal betwis. Die Moslem Broederskap is besig om homself voor te berei om ‘n groot rol in hierdie verband te speel.
  • Die Sjiïtiese bedreiging vanaf Iran en Hizboellah word by die dag ernstiger, terwyl Iran, Sirië en Rusland nog meer dodelike wapens aan Israel se vyande verskaf.

Israel se eie godsdienstige basis is wankelrig en bied nie die broodnodige geestelike ondersteuning en motivering aan die volk wat hulle nodig het om die onheilspellende dreiging teen hulle te oorkom nie. Ongelukkig sal hulle probleme vererger totdat hulle as volk opsien na Hom vir wie hulle gekruisig het en Hom ten volle as hulle Verlosser en Messias-Koning aanvaar (Sag. 12:10). Ná die donker dae van die komende verdrukking sal Hy na die Olyfberg in Jerusalem terugkeer om ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies te red. Waarom wag mense totdat dit amper te laat is voordat hulle in die regte verhouding met Hom kom? Net in Hom alleen het enige persoon of volk ‘n hoopvolle toekoms.

Andrew Murray 32