Print

Gebed van Jabes vir Selfverryking

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Die Jabes-gebed word hoofsaaklik ter wille van materiële voorspoed gebid en as ‘n trekpleister aangewend om mense weer met ‘byvoordele’ na godsdiens en die kerk terug te lok.

Inleiding

Die hele wêreld is in ‘n gees van uiterste materialisme en selfverryking vasgevang. ‘n Ernstige grootheidswaan gaan ook hiermee gepaard. Dit lei onteenseglik tot geestelike louheid en verwerplikheid in die oë van die Here. Aan die eindtydse, lou, kompromiemakende en skatryk gemeente van Laodicéa sê die Here Jesus:

“Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:16-17; beklemtoning bygevoeg).

Die groot aanklag teen hierdie ryk gemeente is dat hulle hul materiële voorspoed aan geestelike suksesvolheid en die seëninge van die Here toeskryf. Dit kom dus nie eers by hulle op dat hulle van die Here afvallig geraak het en in werklikheid geestelik bankrot is nie. Vir hulle word die seën van die Here aan vet bankrekenings, groot lidmaatgetalle, asook ekumeniese aanvaarbaarheid deur ander kerke én die breër samelewing gemeet.

In Afrika het hierdie voorspoedsevangelie ook – ooreenkomstig die Amerikaanse ervaring – soos ‘n ontembare veldbrand versprei. Superryk pastore in duur voertuie en luukse wonings word die toonbeeld van sukses in die samelewing. Hulle volg Kenneth Hagin en ander afvalliges ná om ‘n voorspoedsevangelie te verkondig waarin lidmate se verhouding met die Here op die materiële vlak gemeet en beoordeel word.

Hierdie pastore word op ‘n platform geplaas en feitlik verafgod. As die spesiale “man van God” vr jou bid, sal jy dadelik gesond word, en ook ryk en voorspoedig. Getuienisse in gemeentes bestaan uit verhale oor hoe die Here in die finansies van mense ingegryp en aan  hulle nuwe kontrakte, werk en groot voorspoed gegee het. Die ryk pastore bou reuse-kerkkomplekse en verkry ook uitgebreide sakebelange. Hulle word gesiene mense in die samelewing, en selfs die politici beny hulle hierdie kitsresep vir voorspoed. Iemand wat gou ryk wil word, kry net ‘n Bybel in die hande en begin ‘n gemeente!

Die gees van materilaisme is besig om ‘n wye draai te loop. Dr. Bruce Wilkinson van “Walk Thru the Bible Ministries” het ‘n boek, The Prayer of Jabez, geskryf waarvan daar etlike miljoene kopieë verkoop is. Volgens hom sal jou omstandighede dramaties verbeter nadat jy hierdie gebed ‘n maand lank gebid het. Evangeliese Christene, charismate, Katolieke en vormgodsdienstiges gryp almal die boek aan en sê elke oggend en aand hierdie gebed op.

Die Bybel sê die volgende oor dié gebed: “En Jabes het die God van Israel aangeroep en gesê: As U my ryklik seën en my grondgebied vermeerder en u hand met my sal wees en U die onheil afweer sodat geen smart my tref nie! En God het laat kom wat hy begeer het” (1 Kron. 4:10).

God het vir Jabes geseën omdat Hy behae in sy lewe gehad het – Jabes het nie God se arm gedraai deur aanhoudend die regte dinge te sê nie! Wilkinson sê egter dat as ons dié gebed woord-vir-woord aanhou bid, dan sál God ons seën: Jabes het toevallig op die regte formule afgekom, en ons moet dit letterlik aanhou herhaal.

In sy boek vra Wilkinson geen geestelike opoffering of selfverloëning by mense nie, maar bied ‘n kitsresep aan oor hoe om gou ryk en voorspoedig te word. ‘n Deel van die uitbreiding wat ‘n predikant kan najaag is om, uit ‘n voorspoedsoogpunt, ‘n groot (mega)gemeente op die been te bring. Die volgende artikel oor die Jabes-gebed is deur die baie bekende dr. Joseph Chambers van die VSA geskryf. Hy het ‘n sterk apologetiese bediening om uit die Bybel en onder die leiding van die Heilige Gees dwalings uit te wys:

Godsdienstige giere

Godsdienstige giere is die gevaarlikste van alle giere. Enige prediker of geestelike leier wat daal tot die vlak om ‘n godsdienstige idee te vestig met die potensiaal om in ‘n “afgodsgier” te ontwikkel, beland in groot probleme. Misplaaste giere van ‘n godsdienstige aard kan niks anders as afgodediens genoem word nie. Bygelowige en vleeslike mense het nie die vermoë om tussen godsdienstige giere en die ware geloof in die die Here Jesus te kan onderskei nie. Hierdie giere kry ‘n houvas op mense en voer hulle op die pad van ‘n denkbeeldige geloof weg. Dit is haas onmoontlik om hierdie misleide siele daarvan te weerhou om weer die volgende droom of gier na te jaag wanneer ‘n leier daarmee begin.

In my leeftyd het ek al verskeie multi-miljoen dollar giere gesien wat groot fortuine vir hulle uitvinders gebring het. Die God Chasers gier is nog aan die gang, en sleep miljoene charismatiese mense saam op die pad van misleiding. Die apostel Paulus het gewaarsku teen hierdie soort afgodediens deur godsdienstige leiers wat na hulle eie dissipels en volgelinge soek:

“Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie. En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes. Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie” (Hand. 20:28-33).

My siel verafsku al die dwalings. Ek ween oor diegene wat nie herders het om hulle te waarsku en voor te berei om afgodediens wat in die naam van die Christendom aangebied word, te verwerp nie.

Die Jabes-gebed is ‘n afgodsgier

In sy oorspronklike konteks was hierdie natuurlik ‘n wonderlike gebed wat deur ‘n gelowige Joodse man gebid is. Sy gebed is duidelik volgens die volmaakte wil van God gebid, en dit het hom van die groot menigte van sy tydgenote onderskei. Dit het die potensiaal om vir ‘n goeie preek en wonderlike voorbeeld gebruik te word. Om egter hierdie gebed tot ‘n “paradigma-breker” en model vir alle Christene te verhef, sou lagwekkend gewees het indien die saak nie so ernstig was nie. Daar is nie een vers in die Bybel, ook nie die “Onse Vader” nie, wat as ‘n mantra gebruik kan word nie. (‘n Mantra, wat uit die Oosterse gelowe afkomstig is, is die aanhoudende herhaling van ‘n enkele woord of sinsnede totdat geestelike ‘verligting’ en gebedsverhoring verkry word – red.). Dit word in Mattheus 6:7 deur Jesus verbied.

Dit is onmoontlik om afgodediens te verstaan tensy jy die geloof van die Bybelse Christendom verstaan. Dit is net so maklik om afgodediens op grond van valse en verdraaide sienings van die Skrif te beoefen, as wat dit is om ‘n heidense godsdiens te beoefen. Die Bybel vermaan ons ernstig om die woord van die waarheid reg te sny (2 Tim. 2:15), en waarsku ook sterk teen valse profete wat selfs in die Naam van Jesus daarop uit is om mense te mislei (Matt. 7:22-23).

Die Bybelse geloof is ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus self, en laat geen ruimte vir afgodsgiere nie. Ons, wat ‘n getuienis aan wedergeboorte het, het ‘n persoonlike verhouding met God. Ons ken Hom en kommunikeer met Hom soos een persoon met ‘n ander. Dit is vreemd aan ons verhouding met die Here indien iemand aan ons ‘n godsdienstige mantra voorskryf, of ‘n religieuse stelsel waardeur ons slawe van die stelsel gemaak word. ‘n Weergebore gelowige is ‘n vrye persoon wat hom- of haarself gewilliglik aan ander lede van die liggaam van Christus verbind. Alle stelsels van godsdienstige beheer buite hierdie verhouding met God en met mede-gelowiges, word verwerp.

Elke kultus gebruik ‘n stelsel van afgodediens waardeur dit sy lede verslaaf. Die Mormone, die Jehovasgetuies en, tot ‘n mindere mate, baie van die moderne televisiepredikers, het hulle geliefkoosde idees, beloftes en teorieë waardeur hulle mense verslaaf en hulle lojaliteit (én finansiële ondersteuning) verseker.

In die verlede was die kultusse verskillend genoeg om hulle maklik te kon onderskei. Soos wat ons die einde van die kerkbedeling nader, ontstaan kultusse egter ook in evangeliese kringe, en word dit baie moeiliker om die misleiding daarvan dadelik in te sien.

Enige idee wat beheer oor jou kry, en een of meer Skrifgedeeltes buite hulle verband met die res van die Skrif oorbeklemtoon, kan maklik in ‘n afgodsgier ontwikkel. Die “Jesus Only” sekte is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hoewel hulle die dood van Jesus aan die kruis én verskeie ander skriftuurlike waarhede verkondig, sluit hulle deur die eenheidsleerstelling van Jesus Christus die Godheid van die drie afsonderlike Persone uit. Hulle het gevolglik in ‘n kultus ontwikkel waarin daar ‘n “ander Jesus” verkondig word (2 Kor. 11:2-4) wat nie weet of Hy Vader, Seun of Heilige Gees is nie.

Ek hoop jy begryp wat ek met ‘n afgodsgier bedoel. Jy moet die God van die Bybel self ken. Hy het sy Seun na die aarde gestuur om verlossing van sonde te bewerk, en kindskap in sy groot gesin deur wedergeboorte. Sy Heilige Boek is nie vir interpretasie deur slegs sekere persone gereserveer nie. Jy het niemand anders se verwronge idees as ‘n anker vir jou geloof nodig nie.

Daar is ook nie so-iets soos “nuwe openbarings” nie. Die Here se Woord is lank gelede in die hemel vasgestel. Ons geniet reeds die volle waarheid daarvan, en moet uiters versigtig wees vir mense wat groot wonderwerke of geestelike ondervindings op sg. “nuwe openbarings” wat hulle gehad het, baseer. Indien jy iemand anders nodig het om ‘n gebed aan jou voor te skryf waardeur jy die guns en seëninge van die Here kan kry, is jy reeds in die moeilikheid.

Die Christendom kan nooit tot ‘n stelsel van voorgeskrewe formules gereduseer word nie. Ons het ‘n persoonlike verhouding met God. Die Here het nie kleinkinders nie – ons is almal eersgeborenes deur die bloed van die Lam! Ander mense se bemiddeling of formules is nie nodig om ons behoeftes aan God te stel nie.

Die afgodselement in die Jabes-boek

Waarom neem mense ‘n idee uit die Bybel en poog dan om ‘n godsdienstige steslel op dié waarheid te baseer? Godsdienstige stelsels ontaard altyd in afgodediens omdat mense die besondere stelsel dien en die God van die hele Bybel nie. Afgodediens is enigiets waaraan ons goddelike aandag verleen. Menslik uitgedinkte leerstellings word in die meeste van vandag se kerke nagevolg. In die Pinksterkerke word die Pinkster-ondervinding dikwels bokant die God van Pinkster verhef. Hierdie beginsel geld ook in alle ander sektore van die kerk. Enigeen wat ‘n soort van godsdiens leer waarin mense daarvan weerhou word om die God van die Bybel persoonlik te ken, is slagoffers van godsdienstige dwalings.

Kom ons kyk na die verbreking van die waarheid wat uit die boek, Die gebed van Jabes, blyk. Ek sal aan u vyf redes noem waarom hierdie boek ‘n subtiele vorm van afgodediens is wat van die gesonde leer afwyk:

1. Die boek maak geen melding van gebed in die Naam van Jesus nie. Hoe kan ‘n boek wat op grond van sy gebedsformule op sulke groot resultate en wonderwerke aanspraak maak, die eerste beginsel van ‘n Nuwe Testamentiese gebed geheel-en-al ignoreer? Jesus sê: “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word” (Joh. 14:13; kyk ook Hand. 3:6, 16). Hoe kon dr. Wilkinson die belangrike beginsel van gebed in die die Naam van Jesus miskyk? Op bl. 17 van sy boek sê hy: “I want to teach you how to pray a daring prayer that God always answers.” Hierdie waarborg kan nie aan alle gebede gekoppel word nie, omdat gebedsversoeke ook aan die wil van God moet voldoen (1 Joh. 5:14) – hoeveel minder kan dit aan ‘n gebed gekoppel word wat nie eers in die Naam van Jesus gebid word nie!

2. Die boek bevorder ‘n vorm van gebed wat maklik as heidens geïdentifiseer kan word. ‘n Uitdruklike opdrag deur die Here Jesus oor gebed is die volgende: “Wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit die deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hulle baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra” (Matt. 6:6-8).

‘n Ydele herhaling van woorde skep ‘n mantra, wat inpas by die heidense idee om jou bewussynstoestand te verander en bose geeste op te roep. Geen wonder nie dat die Here Jesus hierdie vorm van gebed ten sterkste verbied het! Hy wil hê ons moet verstaan dat Hy ‘n persoonlike God is en dat ons gebede op geloof en vertroue in sy almag en versorging gebaseer moet wees – nie op gememoriseerde sinsnedes nie, want dit is ‘n belediging vir sy soewereine Persoon.

Die outeur van die Jabes-gebedsboek het klaarblyklik self ‘n paradigmaverandering ondergaan. Hy erken dat hy hierdie gebed daagliks vir meer as 30 jaar lank gebid het. Nou beloof hy aan sy lesers ‘n bewussynsverandering. Hy sê: “Just under the surface of each request lies a giant paradigm breaker” (bl. 14). Wanneer jy ‘n paradigmaverandering ondergaan het, het jou bewussyn oor ‘n saak verander. Jy dink nie meer soos in die verlede nie, omdat jy na ‘n ander denkpatroon oorgeskakel het. Die eindresultaat hiervan is ‘n reuse (Wilkinson gebruik die woord giant) paradigmaverandering wat jou volgens die radikale nuwe idees van die Nuwe Era denkers sal laat dink.

3. Die boek keer terug na die skadu-agtige beloftes van die Ou Testament. Die gebed van Jabes is in sy dag verhoor op grond van die Messiaanse hoop wat elke waarheid in die Ou Testament onderskraag het. Om egter na die skadu’s van daardie tyd terug te keer terwyl ons in die tyd van die vervulde heerlikheid leef, is om die Woord van God verkeerd te interpreteer. Die heerlikheid  en roem van die bloedgekoopte heiliges is in die dood en opstanding van die Here Jesus. Hy is die bron van alle gunste en seëninge wat in die Bybel aan ons belowe word. Geen gebed in die Bybel kan dus as ons hoofbron van seën gebruik word nie.

As ‘n vervulde, Messiaanse Jood het Paulus gesê: “Wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld. Want in Christus Jesus het nóg die besnydenis nóg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel. En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël” (Gal. 6:14-16).

Daar was in Paulus se tyd Judaïseerders wat probeer het om mense onder die juk van die Ou Testament en sy voorwaardes vir seëninge te plaas. Die aangehaalde gedeelte maak dit duidelik dat ons seëninge net in Jesus Christus alleen is – nie in die rituele van die verlede nie. Al wat ons hoef te doen om die keur van die hemelse seëninge te verkry, is om te roem in die kruis van die Here Jesus en onder sy heerskappy te leef.

Die blote gedagte om na ‘n antieke, geïsoleerde gebed in die Ou Testament terug te keer en dit oor en oor op te sê, doen ernstige afbreuk aan die openbaring van Jesus Christus, en aan sy beloftes in die Nuwe Testament. Ons is vry van die gebruike van die verlede.

Jesus het vir die Samaritaanse vrou gesê: “Daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid” (Joh. 4:23). Die tyd van ween en die opsê van sekere skrifgedeeltes is verby, want die waarheid self – Jesus Christus – het gekom. In Hóm is elke belofte in die Woord ja en amen.

4. Die boek is ekumenies en bevorder die skepping van ‘n wêreldkerk. Dr. Wilkinson was al diep betrokke by aktiwiteite wat duidelik ekumenies van aard is, en waar Katolieke, Mormone en lede van ander kultusse met Protestantse Christene verenig is. Die basiese beginsels van ons geloof is opvallend afwesig in dié boek van hom, wat meebring dat dit maklik met sielkunde en ander ideologieë verbind kan word.

Die Bybelse leer van selfverloëning, die kruisiging van die vlees en ‘n lewe van opoffering en oorgawe aan die Here, is jammerlik afwesig in die boek. Nogtans eis die outeur vir sy lesers elke seëning op wat gewoonlik op gehoorsaamheid en oorgegewenheid volg.

5. Die boek is onbeskaamd op selfsug ingestel. Die Seun van God het in sy prediking geen ruimte vir ‘n selfsugtige Christendom gelaat nie: “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” (Matt. 16:24-26).

Geen mens – nie eers een wat miljoene kopieë van sy boek verkoop het – kan die waarheid van die ewige Seun van God verander nie. Selfsugtigheid en waarheid kan nie met mekaar vermeng word nie.

Gevolgtrekkings

Die kerklike publiek word deur baie verskillende weergawes van seëninge en ‘n vleeslike lewe oorstroom. Niemand kan al die vrae beantwoord wat deur die baie populêre skrywers onstaan wat daarop uit is om mense te laat goed voel nie. Die enigste hoop vir ‘n honger en behoeftige siel is die eenvoudige Woord van God. Hou op om jouself te voed met dit wat van die lippe en penne van godsdiensleiers af kom wat die Bybesle weg van heiligheid verlaat het. Sonder jou van hulle twyfelagtige leerstellings en van die wêreldse skares af, en kom terug na die kruis toe.

Indien die kruis van Jesus Christus en sy dood aan die kruishout nie die belangrikste saak is nie, dan is daar iets radikaals verkeerd. Indien mense nie deur die onderrig en prediking tot bekering en ‘n lewe van oorgawe en die opneem van die kruis opgeroep word nie, is die prioriteite verkeerd. Indien jy nie opgeroep word om jouself te verloën en slegs vir Jesus aan die wêreld te verkondig nie, dan is die vyand in die kamp.

My raad aan jou is om ‘n paar maande aan ‘n intensiewe studie van die boek Johannes te wy sodat jy ‘n nuwe ontmoeting met die lewende God kan hê. “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader” (Jak. 4:8). Die belangrikste ondervinding in ‘n mens se lewe is om weergebore te word, en daarna ‘n lewe van toewyding aan Hom te lei.

Epiloog

Die moderne Christendom word op verskeie dwaalweë gelei deur verwronge giere wat gerig is op ideale soos om gou ryk te word, gemeenskapstranformasie, strategiese geestelike oorlogvoering, asook ondervindings soos val in die gees, dronk word in die gees, lag in die gees, tekens en wonderwerke, ens. Hierdie aktiwiteite en sienings word maklik oorbeklemtoon en ontaard dan in kultusse.

Moet God nie met mensgemaakte gebooie, reëls of formules probeer dien nie! Hy sê van sy volk: “Tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:9). Leef heilig voor die Here deur elke besoedeling van die gees en die vlees af te lê, dan sal jy met vrymoedigheid tot sy genadetroon kan nader (2 Kor. 7:1). Bid volgens sy wil en hou aan om ‘n getuie vir Jesus te wees, dan het jy die versekering dat Hy met jou wees tot aan die voleinding van die wêreld (Matt. 28:19-20). Die hooftemas in prediking én in Christelike boeke moet steeds redding en heiligmaking wees, asook (veral in hierdie tyd) wederkomsprediking. Sonde en wêreldsgesindheid moet oorwin word.

(Hierdie artikel is vertaal en verwerk deur Johan Malan, wat ook die Inleiding en Epiloog geskryf het).