Print

Dwalings van die Kerkgroeibeweging

Written by Prof Johan Malan.

Verskeie hoogs populêre en gerespekteerde kerkleiers in die wêreld wys tans die weg na geestelike dwalings aan. Sommige van hierdie mense verkondig van die begin af hulle valshede om die mensdom te mislei. Ander is voormalige evangeliese leiers wat kompromie met wêreldse denkrigtings gemaak het en nou op ‘n subtiele manier verskeie Bybelse leerstellings met hulle humanistiese verlossingsleer, sielkundige metodes van kerkleierskap en kerkgroei, ekumeniese denke, voorspoedsteologie en misplaaste koninkryksvisies vervang. Die volgende sewe dwalings is tipies van moderne kerkleiers wat ‘n humanistiese benadering tot hulle taak het:

1. Ontkenning of verswyging van die geestelike en morele verdorwenheid van die mens. Die sonde-probleem van die mens word nie meer duidelik geïdentifiseer nie, naamlik dat hy ‘n gevalle, sondige natuur het en dus ‘n verloregaande sondaar is wat in rebellie teenoor God leef. In plaas hiervan word sy probleme sielkundig verklaar, bv. ‘n swak selfbeeld, aan omgewingsfaktore of onkunde gewyt, aan oorerwing vanaf sy onmiddellike voorouers toegeskryf (sg. bloedlynvloeke), of aan demoniese vestings in die samelewing verbind – allesbehalwe sy verdorwe natuur en inherente toestand van sonde.

2. Afwatering of verswyging van die sentrale evangelieboodskap. Die duidelike vereiste van wedergeboorte, gebaseer op die kruisdood van die Here Jesus wat versoening vir ons sonde gedoen het, word nie meer suiwer en uitdruklik verkondig nie. Die gevolg is dat ruimte geskep word vir Christelike humanisme wat op ‘n lewe van goeie werke gebou is, eerder as reiniging deur die bloed van die Lam wat vir die redding van alle helverdiende sondaars gestort is. Die klem val nou veel meer op bekering uit wanverhoudings met ander mense (sosiale sondes) as bekering uit sondes teenoor God.

3. Humanistiese metodes van selfbeeldontwikkeling. Moderne sielkundige metodes word gebruik om die mens se selfbeeld te versterk en leierseienskappe te ontwikkel. Dit volg heeltemal die teenoorgestelde koers as selfkruisiging, nederigheid en vervulling met die Heilige Gees, sodat ons kragtig in die Here kan word. Die Bybelse leer van heiligmaking word dus deur Christelike humanisme vervang, en dikwels ook nog deur Nuwe Era mistisisme aangevul. Hierdie metodes word na selgroepe oorgedra wat op hulle beurt ander mense moet betrek en op dieselfde manier motiveer.

4. Wêreldse metodes van kerkgroei. Die kerk word deel van ‘n moderne, veranderende wêreld gemaak en in pas met die veranderings gebring. Deur moderne musiek en die aanvaarding van dekadente lewenstyle en lewenswyses (insluitende onbybelse geslagsrolle) word die kerk sondaar-vriendelik gemaak en trek groot getalle wêreldsgesinde mense. Die kerk pas dus by die wêreld aan, en nie die wêreld by die kerk nie. Geen klem word meer op vaste Bybelse norme gelê nie, omdat dit in die weg van vernuwing en verandering staan. Ekumeniese eenheid is deel van kerkgroei omdat leerstellige verskille as minder belangrik beskou word. In die moderne kerk speel die Bybel, en selfs ook die Here Jesus, nie meer die oorheersende rol nie, want die mens staan in die kalklig en verheerlik homself terwyl hy ander se gehoor streel.

5. Ekonomiese voorspoed, sukses en oorwinning word as ideale nagestreef. Die beeld van die moderne Christen word op welvaart, suksesvolle leierskap en aanvaarding deur die wêreld gebou. Elkeen moet ‘n rolmodel vir ander wees om na te volg. Bepaalde tegnieke, soos voorgeskrewe gebede, word aan Christene gebied om te verseker dat die Here hulle ryk en voorspoedig maak. Christene wat verdrukking, stryd en armoede ervaar, soos bv. Paulus, het baie om by hierdie moderne leiers te leer. Klein, sukkelende gemeentes het volgens hierdie benadering behoefte aan dinamiese leierskap, eerder as persoonlike verootmoediging, suiwer Woordverkondiging en kragtige werkinge van die Heilige Gees.

6. Die skepping en verdere uitbreiding van ekumeniese bande. Die afwatering van die Bybelse verlossingsleer lei daartoe dat ekumeniese bande tussen alle Christelike kerke gesmee kan word, insluitende die Rooms-Katolieke Kerk. Almal kan hande vat omdat daar ‘n baie swak leerstellige basis vir hulle broederskap is – hulle moet Christus net met hul lippe bely, ongeag die toestand van hulle harte (Matt. 15:8-9). Sommige van die deelnemende kerke glo nie eers in wedergeboorte nie, maar ter wille van goeie ekumeniese betrekkinge word dit nie deur ander kerkleiers bevraagteken nie. Hulle eenheid word op ‘n gemeenskaplike koninkryksvisie gebaseer, en die verwagting geskep dat hulle eenheid die sleutel tot herlewing in hulle omgewing sal wees.

7. Die menslike manifestering van die koninkryk van God op aarde. Die moderne dwalings het almal ook ‘n verdere groot leemte, naamlik die afwesigheid van ‘n premillennialistiese eskatologie. In die plek van ‘n toekomstige vrederyk waarin Christus en sy heiliges sal regeer, verkondig hulle ‘n koninkryk hier en nou. Christenleiers moet as dinamiese profete na vore tree, as konings heerskappy begin voer, in ekonomiese voorspoed leef en onstuitbaar in hulle opmars na internasionale roem wees. Hulle moet ook duisende ander leiers motiveer om met die transformasieproses na koninkrykstoestande te help. Opposisie deur die magte van die duisternis moet oorwin word deur Satan se vestings oor dorpe, stede en lande in die geloof neer te werp.

Ondersoek hulle leer

Dit is van die uiterste belang dat evangeliese, Bybelgelowige Christene sal leer om die toenemende aantal geestelike leierspersone aan ‘n streng Skriftoets te onderwerp, anders word hulle dalk self mislei. Ons het ‘n Bybelse opdrag om alle dinge te ondersoek (1 Thess. 5: 21) en die dwaalleringe aan die lig te bring. Die Woord verkwalik ons as ons mislei word nadat ons geestelik ‘n tyd lank die reguit pad bewandel het: “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees? Hierdie oortuiging kom nie van Hom wat julle roep nie. ‘n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur” (Gal. 5:7-9). Paulus sê ‘n opsiener moet een wees “wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê” (Titus 1:9).

Die Woord van die Here is die vaste norm. In die lig hiervan kan elke dwaling beoordeel en weerlê word. Geen evangelie of leerstelling anders as dit wat in die Bybel geopenbaar is, mag deur ons aanvaar word nie – ongeag wie dit verkondig (Gal. 1:8-9).

As voorbeelde van die dwalings wat hierbo genoem is, bespreek ons nou die standpunte en leerstellings van ‘n aantal moderne Christelike leiers. Dit is belangrik dat ‘n persoon nie beoordeel sal word op grond van wat hy vroeër jare gedoen en gesê het nie, maar op grond van sy huidige posisie. Soms word die integriteit wat oor jare heen opgebou is, deur sekere leiers geïgnoreer wanneer hulle ter wille van persoonlike gewin en groter aansien ‘n dwaalweg inslaan. Hulle ondersteuners en volgelinge moet dan des te meer waak om nie saam met hulle op ‘n dwaalweg meegesleur te word nie, want dit kan die geestelike verduistering of ondergang van ‘n hele kerk of gemeenskap verhaas.

Norman Vincent Peale

Norman Vincent Peale het verskeie Bybelse stellings duidelik bevraagteken. Hy het bv. gesê dat die opvatting oor Jesus se maagdelike geboorte ‘n teologiese idee is. Die groot doelstelling van sy bediening was om teologie en sielkunde te vermeng en sodoende die grondslag vir ‘n vorm van humanistiese Christelike sielkunde te lê wat misties en okkulties is. Dave Hunt (Occult Invasion, bl. 460) sê: “Peale was worse than a liberal. He openly acknowledged that many of his ideas came from two leading occultists, Religious Science founder Ernest Holmes and Unity cult cofounder Charles Fillmore.”

Peale sê die wêreld is geestelik en nie fisies nie. “God” is ‘n energiebron wat deur die mens ingeasem en gebruik kan word. Hy kan dus sy eie god word. “Gebed” is ‘n wetenskaplike metode waardeur jy die goddelike energie in terme van sekere wette kan vrystel. Deur jou gedagtes kan jy enigiets verander. Jou onderbewussyn kan selfs jou wense in werklikheid omskep as daardie wense sterk genoeg is. Deur middel van positiewe belydenis (“positive confession”) word hierdie gedagtes hardop uitgespreek en dan verwerklik. Vir hom is dit dieselfde as geloof.

Dave Hunt (ibid, bl. 587) sê die volgende oor Norman Vincent Peale se multigodsdienstige denke: “It is perhaps even more tragic when Christian leaders betray that faith while continuing to profess it. On the Phil Donahue program in 1984, Norman Vincent Peale said: ‘It’s not necessary to be born again. You have your way to God; I have mine. I found eternal peace in a Shinto shrine… I’ve been to Shinto shrines, and God is everywhere.’ Shocked, Phil Donahue responded, ‘But you’re a Christian minister; you’re supposed to tell me that Christ is the way and the truth and the life, aren’t you?’ Peale replied, ‘Christ is one of the ways. God is everywhere.’ Yet Peale, who, in addition to his many heresies, was deeply involved in the occult, has enjoyed the unremitting praise not only of his chief disciple, Robert Schuller, but of Billy Graham and other evangelical leaders.”

John Templeton het in 1994 ‘n boek met ‘n sterk okkultiese en multigodsdienstige inslag geskryf, getiteld: Discovering the Laws of Life. Hierin sê hy: “Behind this book is my belief that the basic principles for leading a sublime life may be derived from any religious tradition – Jewish, Muslim, Hindu, Buddhist and others, as well as Christian… We have the power to create whatever we need in our life and this power which lies within us is the power of the mind.” Norman Vincent Peale, wat glo dat ‘n mens deur positiewe denke jou eie werklikheid skep, het die voorwoord vir hierdie boek geskryf. Verder is Templeton se boek op sy omslag ook deur Robert Schuller, Billy Graham en twee Rooms-Katolieke Nuwe Era-priesters aanbeveel.

Robert Schuller

Dr. Schuller is die skrywer van die boek Self-Esteem: The New Reformation, en het ‘n bekende TV program, The Hour of Power, wat in sowat 20 miljoen huise gekyk word. Schuller het ‘n baie groot invloed op die Christendom, veral op die volgende twee terreine: (1) die gebruik van sielkundige metodes van geestelike ontwikkeling, en (2) die bevordering van ekumeniese denke. Sy mentor en leermeester was Norman Vincent Peale, die vader van “positiewe denke.”

Die kerngedagte van Schuller se teologie is “self-esteem” (selfagting). ‘n Positiewe selfbeeld moet by alle mense geskep word wat tot die Christendom toetree, want hierdeur sal God ook verheerlik word. Hy verkondig dus ‘n mensgesentreerde teologie. Volgens hom is kerke tot mislukking gedoem as hulle die ongeredde wêreld met ‘n God-gesentreerde houding benader waarin mense as sondaars gebrandmerk word wat in rebellie teenoor God leef.

Robert Schuller gebruik die regte Bybelse begrippe, maar gee ‘n totaal ander betekenis aan hulle, soos uit die volgende definisies en beskouings van hom blyk:

Sonde is ‘n daad of gedagte wat mense van hulle selfagting beroof. Vir Schuller is sonde nie ‘n wanverhouding met God as gevolg van dade van rebellie en die verbreking van sy wette nie. In 1 Johannes 3:4 sê die Bybel egter duidelik dat sonde wetteloosheid is.

Oorspronklike sonde is die toestand waarin almal van ons gebore is, nl. ‘n gebrek aan vertroue, m.a.w. ‘n negatiewe selfbeeld en ‘n minderwaardigheidskompleks.

Die hel is nie vir hom ‘n plek waar smarte gely word nie, maar slegs ‘n toestand van verlies aan trots wat met skeiding van God gepaard gaan.

Wedergeboorte beteken dat ons van ‘n negatiewe tot ‘n positiewe selfbeeld verander word; van minderwaardigheid tot selfagting, van vrees tot liefde, van twyfel tot vertroue. Wedergeboorte is vir hom dus nie die verlossing van sonde en van die dood nie.

Die koninkryk van God bestaan uit mense wat op ‘n nie-veroordelende manier deur Jesus aangeneem is, en van selfskande tot selfagting verander is.

Baie kerke het hierdie valse leer van Schuller aanvaar. Dit is egter op ‘n sielkundige wanopvatting gebaseer. Volgens die Bybel is die probleem van die mens nie ‘n gebrek aan selfagting en selfliefde nie. Die gevalle mens het eerder ‘n oormaat daarvan, en dit lei tot hoogmoed. Paulus sê dat die moreel en geestelik vervalle mense liefhebbers van hulleself is, grootpraters en trotsaards (2 Tim. 3:2). In Efésiërs 5:29 sê hy ook dat niemand ooit sy eie vlees gehaat het nie. Schuller soek dus die probleem van mense op ‘n terrein waar dit nie is nie, terwyl hy die sondigheid van die ou, verdorwe natuur, en die gepaardgaande verlorenheid en rebellie teenoor God, ignoreer asof dit nie bestaan nie.

Schuller se nuwe reformasie sluit ook ‘n bereidwilligheid in om leerstellige verskille ter wille van eenheid opsy te skuif. Hy sê dat verdeeldheid en verdagmakery tussen Christelike kerke nie geduld moet word nie. Denominasies moet hulle verskille laat staan en hande vat om ‘n kragtige eenheid te demonstreer. Dié benadering is ook die dryfkrag agter ekumeniese bewegings soos Promise Keepers en die Katoliek-Evangeliese verbond. Belangrike leerstellige beginsels word oorboord gegooi omdat dit in die pad van groter eenheid staan.

Schuller het ook die dwaling van die koninkryksteologie ten prooi geval. Die ewige heerlikheid en die ewige straf wat in die Bybel beskryf word, word weggeredeneer en met ‘n koninkryksvisie vervang. Volgens Schuller word mense deur klassieke beskouings oor die hemel en die hel afgesit. Die uitdaging moet volgens hom eerder aan mense gestel word om vrede, broederskap en ekonomiese eenheid te skep. Ons moet dus ‘n mensgemaakte koninkryk op aarde skep, want dit is die toekoms waarheen ons almal op pad is. Sodoende word godsdiens aan die sekulêre doelwitte van die mens se eie belange dienstig gemaak. Hy word sy eie god en werk sy eie toekoms uit.

RICK WARREN

Dr. Rick Warren van die Saddleback Valley Community Church in Kalifornië is die hoof van Purpose Driven Ministries (PDM). Hy het sy doktorsgraad aan die Fuller Seminarium verwerf. Rick het bekendheid verwerf met sy sielkundig-georiënteerde lesings en boeke oor die doelgerigte kerk en die doelgerigte lewe (“The Purpose Driven Church” en “The Purpose Driven Life”). Sy denkrigting is wesenlik ‘n voortsetting van Norman Vincent Peale se positiewe denke en Schuller se beklemtoning van ‘n positiewe selfbeeld deur middel van die bevordering van selfagting. Dit kan as godsdienstige humanisme beskryf word.

Hoewel Rick Warren sy motiveringskursusse oor persoonlike- en kerkleierskap, asook oor kerkgroei, in ‘n mooi Christelike gewaad klee, wys hy deur sy assosiasies met humanistiese leiers en sekulêre programme waar hy werklik staan. Hy het ‘n sterk aanbeveling vir die boek, “Half Time” van Bob Buford, die stigter van Leadership Network, geskryf. Buford het egter die boek aan sy mentor, dr. Peter Drucker, opgedra wat ‘n duidelike vorm van sekulêre humanisme verkondig. Drucker sê dat bestuur ‘n sosiale dissipline is wat op die gedrag van mense en menslike instellings gebaseer is. Omdat die sosiale omgewing voortdurend verander, kan norme wat gister gegeld het, vandag heeltemal uitgedien en ontoepaslik wees. Hy glo dus nie dat daar sosiale of morele onveranderlikes is nie, daarom het die Bybel nie vir hom vaste waardes vir alle mense van alle tye nie. Die bestuur van mense en menslike instellings is ‘n humanistiese aktiwiteit omdat die mens voortdurend by ‘n veranderende wêreld moet aanpas.

Bob Buford se Leadership Network baseer sy benadering op hierdie humanistiese model van voortdurende pragmatiese veranderings om by die behoeftes van die moderne mens aan te pas. Rick Warren het hierdie idee gekoop, daarom sê hy ook dat daar ‘n verskuiwing vanaf tradisionele denke na sg. oorgangsdenke (“transitional thinking) en uiteindelik na getransformeerde denke (“transformational thinking”) moet wees. Die Bybel is dus nie vir hom die absolute norm nie, maar veranderende menslike instellings en behoeftes is die norm vir gedrag. Ons móét anders dink en optree!

Die moderne kerk het by hierdie sosiale veranderingsproses ingeskakel. Dr. Robert Klenck sê in sy beoordeling: “Die kerkgroeibeweging neem dit nog ‘n stappie verder, want deur ‘n proses van geleidelike verandering word die Woord van die Here stap vir stap verander om uiteindelik iets heel anders te beteken as wat sy oorspronklike bedoeling was. Alle sondaars volg hierdie proses in ‘n poging om hulle rebellie teenoor hulleself én teenoor andere te regverdig. Die rebellie is aanvanklik subtiel – daar word bloot van die tradisionele manier van kerk hou weggebreek; later word vrouepredikers aangestel en uiteindelik lesbiese predikers. Alle struikelblokke in die weg van verandering moet afgebreek word. As ‘n einddoelwit moet kerkgrense ter wille van vrede en eenheid afgebreek word, en daarna moet grense tussen verskillende gelowe verwyder word sodat die verenigde wêreldkerk gestalte kan aanneem. Dieselfde proses word gebruik om nasionale grense af te breek en nasies se soewereiniteit ter wille van globalisme weg te neem sodat eenheid en vrede onder ‘n wêreldregering geskep kan word. Die Bybel waarsku ons teen diegene wat ten gunste van die godsdienstige en politieke vereniging van die wêreld is.”

In die modernisering van aanbiddingsvorme huiwer Rick Warren selfs nie om uit ‘n Nuwe Era-georiënteerde skrywer soos Gary Thomas se boek, “Secret Pathways,” aan te haal nie. Hierin word nege paaie beskryf waarop mense tot God kan nader: deur die natuur, deur jou emosies, deur jou sintuie (gevoel, gehoor en oë), deur kerklike rituele en liturgiese simbole, deur feesvierings, deur aksies teen sonde, deur werk om van die wêreld ‘n beter plek te maak, deur eensame meditasie en ook deur studie.

Omdat Rick graag ander vertolkings aan sekere skrifgedeeltes wil gee, het hy ‘n voorliefde vir moderne vertalings van die Bybel, asook parafrases daarvan. In “The Purpose Driven Church,” bl. 297, sê hy: “Lees die Bybel uit nuwer vertalings. Daar is vandag soveel wonderlike vertalings en parafrases beskikbaar dat daar geen rede is om die Goeie Nuus in die 400 jaar oue King James Version te lees nie.”

Rick Warren is diep by humanistiese denkpatrone betrokke. In sy boeke word daar baie meer van “jou” planne en metodes as van “God” se planne en metodes gepraat. Trouens, die Here Jesus en die Bybel is nie die hooftema van sy lesings nie. Dit gaan veel meer oor moderne bemarkingstegnieke en organisatoriese bestuurstyle. Kerklidmate word agente vir verandering in ‘n poging om meer harmonieus by ‘n veranderende wêreld aan te pas. Rick het selfs veranderings aangebring om sy kerk meer sondaar-vriendelik te maak sodat ongelowiges in die gemeenskap ook daar kan tuis voel.

Een van die veranderings om ondersteuning te trek, was oorverdowende popmusiek. Rick het in 1998 gesê: “By Saddleback luister ons na kontemporêre popmusiek met ‘n sterk ritme, soos op die meeste TV-advertensies gebruik word... Direk nadat ons hierdie besluit geneem het, het die kerkbywoning die hoogte ingeskiet. Ek sal met julle eerlik wees, die musiek by ons naweekbyeenkomste is werklik baie, baie hard en ons gaan dit nie sagter maak nie. Baie van die jongmense wil die musiek ook voel – nie net hoor nie.” Hy voeg by dat mense wat net van outydse musiek hou en dit as beter as moderne musiek beskou, in werklikheid afgodediens beoefen.

Rick het ‘n geweldige impak op die kerkgroeibeweging in die wêreld. Daar is meer as ‘n miljoen kopieë van sy boek, “The Purpose Driven Church,” verkoop, en hy het ook meer as 150 000 leraars en kerkleiers opgelei. Dr. Joseph Chambers som Rick Warren se boek oor kerkgroei só op: “Hierdie boek is vol probleme vir die kerk. Wanneer iemand aan my sê dat daar ook baie goeie idees in die boek is, dan is my antwoord eenvoudig: ‘Gif word altyd met ‘n goeie smaak gemeng’ ... ‘n Moderne goue kalf is die beste Bybelse beskrywing wat ek vir hierdie boek kan gee.”

Die populariteit wat moderne kerkgroeileiers in die kerk én in die wêreld geniet, die groot rykdomme wat hulle met die skryf van blitsverkopers en die aanbied van seminare verdien, asook die ingenomenheid met hulle eie prestasies, herinner baie sterk aan Laodicéa se selfverheffing en selftevredenheid: “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:17). Hulle is duidelik nie ryk in die Here nie omdat hulle nie bereid is om die tydlose norme van sy onveranderlike Woord kompromieloos toe te pas nie. Hulle wil nie ‘n kruis opneem waaraan hulle vir die wêreld gekruisig is nie, want hulle vind wêreldse beginsels en lewenstyle baie nuttig om die afvallige kerk van die eindtyd vinnig te laat groei. Hulle gee steeds erkenning aan vele Bybelse waardes, maar meng dit met wêreldse waardes – daarom is hulle nie geestelik koud óf warm nie; hulle is lou en word om dié rede deur die Here Jesus uit sy mond gespuug (Op. 3:16).

JOHN MAXWELL

John Maxwell van Injoy Ministries in die VSA het ook ‘n doktorsgraad aan die Fuller Teologiese Seminarium verwerf, en word saam met Rick Warren en Bill Hybels as van die leidende kerkgroeileiers in die wêreld beskou. Die hoofdoel van sy Injoy-groep is om kerke en kerkleiers te help om hulle volle potensiaal te bereik. Hy hou konferensies en leierskapseminare waarop hy jaarliks meer as 250 000 mense toespreek. Hy het sedert 1998 al 15 topverkoper-boeke gepubliseer, waaronder The 17 Indisputable Laws of Teamwork, The Winning Attitude, Your Road Map for Success, Leadership 101, Running with the Giants, Developing the Leader Within You, en Thinking for a Change.

Volgens Biblical Discernment Ministries is daar drie ernstige probleme met Maxwell, te wete:

·       Sy verdraaiing van die Bybel. Omdat hy nie die Bybel reg interpreteer nie, beweer hy dat die Bybel sekere dinge leer wat dit inderdaad nie leer nie.

·       Hy gee eksplisiete of implisiete erkenning aan sekere Nuwe Era-tegnieke.

·       Hy pas twyfelagtige leerstellings toe waarin wonderwerke ‘n groot rol speel, die kruis van Jesus afwesig is, en waarin sielkundige beskouings oor bv. selfagting prominent is.

Een van die tipiese voorbeelde van inlegkunde wat Maxwell gebruik om sy eie sielkundige teorieë in die Bybel in te lees, is sy verklaring van Spreuke 29:18, wat sê: “Where there is no vision, the people perish” (King James Version). Ander Engelse Bybels, soos die New King James Version, vertaal dit beter: “Where there is no revelation, the people cast off restraint.” Die Afrikaanse Bybel sê: “As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos.” Die betekenis hiervan is baie duidelik: as daar nie ‘n openbaring van God se wil is nie, verval die volk geestelik. Dit pas Maxwell egter om die woord “vision” te behou, want hy wil mense motiveer om hulle eie visie, toekomsideaal of droom te hê van wat hulle wil bereik. In sy boek, The 17 Indisputable Laws of Teamwork (bl. 96), sê hy dat ‘n visie aan die span rigting en vertroue gee om verby hulle huidige omstandighede of tekortkomings te kyk na wat hulle werklike potensiaal is. Dit gaan dus hoegenaamd nie oor nuwe insig in die Woord van God, en om jou lewe daarvolgens in te rig nie. In die plek daarvan moedig Maxwell dinkskrums aan om nuwe idees te genereer. Wanneer iemand ‘n skielike ingewing kry en “eureka!” skreeu, gee dit rigting aan die groep se toekomsvisie.

In sy boek, The Winning Attitude, sê hy op bl. 31: “Toe Goliat teen die Israeliete opgestaan het, het die soldate gedink: hy is só groot ons sal hom nooit kan doodmaak nie. Dawid het na dieselfde reus gekyk en gesê: hy is só groot, ek kan hom nie mis gooi nie.” Dit word dan as ‘n voorbeeld van negatiewe denke aan Israel se kant genoem, en positiewe denke aan Dawid se kant, wat na ‘n klinkende oorwinning gelei het. Hierdeur mis Maxwell die hele rede waarom die verhaal aan ons vertel word. Dawid het die reus oorwin omdat hy sy vertroue in die God van Israel gestel het. Die neerlaag van Goliat was omdat hy God geminag het en só deur positiewe denke oorheers was dat hy net op sy grootheid en menslike vermoëns staatgemaak het.

‘n Ander teks wat gebruik word om ‘n positiewe selfbeeld te verduidelik, is Spreuke 23:7: “For as he thinks within himself so he is” (“Want soos hy in sy siel bereken, so is hy”). Maxwell sê: “Dit is onmoontlik om aanhoudend anders op te tree as die manier waarop ons onsself sien. Ons optrede is ‘n direkte weerspieëling van ons selfbeeld” (The Winning Attitude, bl. 61-62). Hierdie teks het hoegenaamd niks met selfagting te doen nie, want dit is ‘n waarskuwing teen afgunstige persone wat jou met uiterlike gebare probeer beïnvloed, maar hulle harte is nie met jou nie. Hulle uiterlike optrede is nie soos hulle regtig in hul harte is nie.

Die besluit van Israel om nie die Beloofde Land in besit te neem nie (Numeri 13 en 14), word as ‘n voorbeeld van negatiewe denke genoem waardeur God én ons eie potensiaal beperk word. Dit gaan egter nie in hierdie gedeelte oor “positiewe denke” en “negatiewe denke” nie, maar oor ongeloof in God se beloftes. Maxwell lê egter baie sterk klem op die onderwerp van positiewe denke, en verwys in hierdie opsig dikwels na Norman Vincent Peale.

‘n Skewe voorstelling word ook van die volgende teks gemaak: “As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle... ook vir hierdie berg sê: hef jou op en werp jou in die see – en dit sal gebeur” (Matt. 21:21). Maxwell sê: “Die enigste ding wat die sukses van ‘n twyfelagtige onderneming sal verseker, is geloof van die begin af dat jy dit kan doen” (The Winning Attitude, bl. 139). Die dwaling wat hy verkondig, is dat jy geloof in jouself moet hê om iets te kan doen. Dit is nie waar nie: ek moet geloof in God hê om iets vir my te doen as dit in sy wil is om dit te doen.

Dit is baie opvallend in John Maxwell se boeke dat hy nie die genadewerk van Jesus Christus aan die kruis beklemtoon nie, en dus ook nie die krag tot oorwinning wat ons in die bloed van die Lam het nie. Hy praat wél van ons sekerheid in Christus, en ook hoe ons uit die Bybel, uit gebed en deur die Heilige Gees krag kan kry, maar hy verbind dit feitlik nooit aan die kruis nie. Hy stel ook die werk van die Heilige Gees voor as ‘n krag wat jou kan help om suksesvol te wees, eerder as die krag om heilig te leef en ‘n getuie vir die Here Jesus te wees. Met ‘n humanistiese godsdiens van hierdie aard kan evangeliese Christene nie saamgaan nie. Dit is verraderlik om sielkundige metodes van selfontwikkeling uit die Bybel te regverdig en in die proses die diep geestelike boodskap van die Bybel buite rekening te laat.

BRUCE WILKINSON

Dr. Bruce Wilkinson wat uit die VSA na Suid-Afrika verhuis het, is aan die bedienings “Walk Thru the Bible” en “Turning the Tide” verbonde. Turning the Tide is daarop ingestel om die afwaartse gety van menslike lyding as gevolg van Vigs, armoede en onderdrukking in Afrika, asook geestelike verduistering, om te keer en deur ‘n positiewe transformasie-beweging te vervang. Met al die eerbare doelstellings wat hy het en die goeie lesings wat hy al aangebied het, is hy egter ook met koninkryksteologie besig waarin daar gepoog word om die wêreld nóú Christelik te rekonstrueer en mense ook ekonomies voorspoedig te maak.

Met die oog op laasgenoemde doelwit is die Jabes-gebedsboek geskryf, waarvan daar wêreldwyd al bykans tien miljoen kopieë verkoop is. Ten minste het Bruce self deur hierdie boek se verkope skatryk geword. Daar is groot probleme met die Ou Testamentiese aard van hierdie gebed, omdat dit hoegenaamd nie in die Naam van Jesus gebid word nie. Dit is op skaduagtige beloftes van die ou bedeling gebaseer, en nie op die ryk geestelike seëninge wat ons in die Here Jesus verkry nie. As ons die koninkryk van God en sy geregtigheid soek, dan word al die ander (materiële) dinge wat ons nodig het, vir ons bygevoeg. Daar is ook ‘n probleem met die herhalende aard van die Jabes-gebed wat oor en oor gebid moet word – inderdaad ‘n ydele herhaling van woorde, soos wat Jesus gesê het dat ons nie moet doen nie (Matt. 6:7). Waarom het Bruce nie liewer ‘n boek oor die Onse Vader, oor Christus se hoëpriesterlike gebed, of oor Paulus se gebed vir die Efésiërs geskryf nie? Daarin is nie ‘n versoek dat ons aardse besittings vermeerder moet word nie, maar wél ‘n versoek dat ons God se wil sal doen.

Wilkinson het ‘n groot voorliefde vir ekumeniese byeenkomste, daarom is hy ook ‘n gesogde spreker by die Promise Keepers. In 2003 het hy saam met Robert Schuler by sy Instituut vir Suksesvolle Kerkleierskap opgetree. Schuller is ‘n man wat die Bybelse verlossingsleer met ‘n sielkundige selfbeeldteorie vervang het, en as gevolg van dié ernstige dwaling behoort evangeliese leiers baie huiwerig te wees om hoegenaamd met sy bediening te assosieer. Bruce Wilkinson gebruik egter self sielkundige metodes om sy doelwitte te bereik.

Hy het in ‘n lesing ses “wette” vir dinamiese Bybel-onderrig bepaal, nl. dat dit leerder-georiënteerd, verwagting-georiënteerd, toepassings-georiënteerd, memoriserings-georiënteerd, behoefte-georiënteerd en toerustings-georiënteerd moet wees. Hy het gesê dat jy op hierdie manier omtrent enigiets vir enigeen kan leer. Dit is egter opvallend dat dit ‘n sielkundige en verstandelike leerproses is wat nie uitdruklik met die onderrigtende werk van die Heilige Gees  (Joh. 16:13-14) in verband gebring word nie. Hoe kan diep geestelike waarhede verstaan word as ons nie deur die werking van die Heilige Gees verligte oë van die verstand het nie? Al die sielkundige metodes in die wêreld sal nie help om vir hierdie gebrek te vergoed nie.

Die ekumeniese transformasiebyeenkomste pas Wilkinson soos ‘n handskoen. Sy openbare skuldbelydenis tussen groepe (“identificational repentance”) is baie op die idee van oorgfeërfde groepsonde gebaseer, en sluit ook by Otis se geestelike kartering aan. Dit het baie meer van ‘n politieke en sosiale karakter as wat dit ‘n geestelike inslag het. Sekere geestelike waarhede word wél deur hom genoem, maar hy koppel dit altyd weer aan ‘n breë sosiale of ekumeniese konteks.

Bruce Wilkinson wys baie duidelik waar hy staan wanneer hy ten nouste met Rick Warren en John Maxwell van die internasionale kerkgroeibeweging saamwerk. John Maxwell is uitgenooi om van 5 tot 7 Maart 2004 by ‘n Turn The Tide-byeenkoms oor leierskap te praat. Die konferensie is met die volgende doel gereël: “Break through to abundant living, pursue your God-given dream, and reach your full leadership potential with Turn the Tide.” In Mei 2003 het Rick Warren op ‘n Turn the Tide-konferensie in Suid-Afrika opgetree. Sy “Purpose-Driven”-materiaal word sterk aanbeveel en Bruce se organisasies poog om plaaslike verspreidingsregte daarvoor te verkry.

Dit is duidelik dat die bondgenote met wie Bruce Wilkinson saamwerk, hom in die stroom van die moderne, humanistiese godsdiens met sy sielkundige selfbeeldprogramme en sekulêre leierskapstegnieke ingetrek het. Die gelukkige, suksesvolle en voorspoedige lewe wat hierdeur aan gelowiges op aarde gebied word, maak van hulle bevoorregte koninkryksburgers wat glad nie op die wederkoms en die openbaring van Christus se koninkryk ingestel is nie. Hulle hoef ook nie ‘n kruis te dra en vir die ware evangelie verdrukking te verduur nie. Hulle moet net “be happy”-houdings nastreef, hulle selfbeeld verbeter, seker maak dat hulle ook materieel voorspoedig is, en glo dat die Here hulle droom van ‘n sorgvrye en suksesvolle lewe op aarde sal verwesenlik.

Bruce het evangeliese Christene erg geskok toe hy in ‘n onderhoud in die Joy-tydskrif van April 2004 gesê het: “We have promoted an unbiblical message that becoming born-again is the answer to everything. It’s not. It changes your eternity, but it doesn’t change your sexual behaviour, for instance. The gospel does not always have the answer for modern-day dilemmas.” Indien mense se seksuele gedrag, bv. homoseksualisme en seksuele bandeloosheid nie deur wedergeboorte verander word nie, dan word die Bybelse uitspraak dat die ou dinge verbygaan en alles nuut word (2 Kor. 5:17), wesenlik ontken. Sosiale hervormings moet dan doen wat die evangelie volgens moderne predikers soos Bruce Wilkinson nie kan doen nie, daarom word humanistiese programme teen Vigs en armoede hoofdoelwitte.

Peter Wagner

Peter Wagner is die hoof van Global Harvest Ministries en die World Prayer Center in Colorado Springs. Hy beywer homself vir verenigde stadskerke, en ook vir die bevordering van strategiese geestelike oorlogvoering. Dr. Wagner definieer die volgende drie vlakke van geestelike oorlogvoering:

·       Die grondvlak, wat die uitwerping van demone uit individue behels.

·       Okkultiese vlak oorlogvoering wat op georganiseerde magte van die duisternis gerig is, bv. die Nuwe Era filosofie, die Oosterse gelowe en Vrymesselary.

·       Strategiese vlak oorlogvoering, waardeur territoriale geeste wat deur Satan oor sekere gebiede aangestel is, beveg word.

Wagner maak baie van punt 3 hierbo. Hy sê dat die Satan senior demone uit die hiërargie van bose geeste stuur om lande, streke, stamme, gemeenskappe, woongebiede en ander sosiale netwerke in die wêreld te beheer. Hulle belangrikste doel is om te verhinder dat God in hulle gebiede verheerlik word. Hulle stel ook demone van ‘n laer rang aan om hulle te help.

Hierdie leer is uit ‘n sekte, die Manifested Sons of God, afkomstig. Een van hulle apostels, Francis Frangipane, het gesê: “Daar is sataniese vestings oor lande en gemeenskappe, en daar is vestings wat kerke en individue beïnvloed… Voordat die oorwinning opgeëis kan word, moet hierdie vestings afgebreek en Satan se wapens vernietig word. Daarna kan die magtige wapens van die Woord en die Gees effektief die ryk van Satan beroof.” Daar moet dus eers teen Satan geveg word.

Wagner het ‘n bepaalde pad van verval geloop om te kom waar hy vandag is. Hy is in 1930 gebore en het as ‘n konserwatiewe Christen sy bediening begin. Hy het in 1970 by die Fuller Seminarium aangesluit, waar hy professor in wêreldsending geword het. In 1974 het hy by die Lausanne Komitee aangesluit, wat hom vir wêreldevangelisasie beywer.

In 1980 het Wagner vir John Wimber ontmoet, wat die stigter was van die Vineyard kerke waaruit later die Toronto-verskynsel van val en lag in die gees ontstaan het. Wagner is oorgewen na die tekens en wonders-teologie en sy gevolglike charismatiese herlewings. Hy het die begrip “third wave” gevestig om die begin van die tekens en wonders verskynsel in konserwatiewe evangeliese kerke aan te dui.

Sedertdien het Wagner geleidelik in die rigting van die Manifested Sons of God se leerstellings beweeg as gevolg van sy kontak met profete soos Paul Cain, Bill Hamon en Rick Joyner. Hy het ook noue kontak met leiers van die Toronto/Brownsville herlewing gehad. Peter Wagner het ‘n voorwoord geskryf vir Bill Hamon se boek oor die aard van eindtydse herlewings, getiteld: “Apostles, Prophets and the Coming Moves of God: God’s End-Time Plans for His Church and Planet Earth.”

Wagner is ‘n leidende persoon in die beweging wat hyself die “Post-Denominational Church” van die 21ste eeu noem. Leerstellige grense gaan almal vervaag soos wat Christene oral deel van die nuwe tekens en wonders georiënteerde, apostoliese hervorming word – die sg. New Apostolic Reformation. Profete sal goddelike openbarings oor die kerk kry, en dit aan die Apostels deurgee. Hulle sal dit dan aan die pastore, leraars en evangeliste bekend maak, wat dit sal verkondig. Hierdie hiërargie sal God se verteenwoordigers op aarde wees, wat dieselfde arrogante aanspraak is as wat die Roomse pouse ook maak. Die mens staan dus sentraal in hierdie herlewing omdat hy oor groot magte beskik.

George Otis

George Otis jnr. is die voorsitter van die Sentinel groep in Seattle, en is wêreldwyd bekend oor die Transformasie-video’s wat hy gemaak het. Daar is groot probleme met sy teologie, veral met sy verlossingsleer. In lesings wat Otis oor die omstrede Moral Government Theology by YWAM in Tacoma gelewer het, het hy onder meer die volgende gesê:

·       God het ons posisioneel geheilig, sodat ons stand in Christus anders as ons werklike [sondige] stand is wat so bly voortbestaan… Christus het nie deur sy dood versoening vir ons sonde teen die toorn van God gebring nie, maar die versoening het God se hart verander sodat dit nie meer toornig en vervolgsugtig (vindictive) teenoor ons is nie.

·       Die vergewensgesindheid van God is die verslapping van ‘n wettige eis, en nie ‘n geval dat Hy my skuld betaal en my sonde vergewe het nie.

·       Die essensie van Jesus Christus se versoening is dat Hy namens ons aan die morele wet van God gehoorsaam was (m.a.w. sy lewe, nie sy kruisiging nie).

·       Christus het ons nie vrygekoop deur sy lewe as ‘n losprys vir ons sonde aan te bied sodat ons vrygemaak kan word nie, want God het nooit enige mens in sy sonde gevange gehou nie: “The truth is Christ paid no man’s debt.”

·       “If we accept the premise that Jesus literally purchased our salvation with His blood… and He paid the Father… then this approach portrays God the Father as vindictive and blood-thirsty and totally incompatible with biblical forgiveness. It also presents another grave difficulty. If Jesus literally paid for our sins with His blood, and paid a debt that is no longer a debt, and He died for the sins of the whole world, then we [and the theological world] can only come to one conclusion, namely Universalism, which means that everybody will be saved.”

Dit is duidelik dat George Otis die basiese grondbeginsel van die evangeliese Christendom, naamlik Jesus Christus se plaasvervangende dood aan die kruis vir die versoening van ons sondes, uitdruklik verloën het. Vir hom bestaan sonde daaruit dat mense onder demoniese misleiding verkeer, sonder spesifieke verwysing na die gevolge van hulle eie sondige natuur. As ‘n oplossing vir die geestelike bindings en desepsie moet die demone en hulle vestings in ‘n bepaalde gebied geïdentifiseer, beveg en verdryf word. Dan sal mense die Here soek, en sal daar ‘n groot herlewing uitbreek.

In 1990 het Otis ‘n ‘ontdekking’ gemaak wat die geestelike visie en prioriteite van sy bediening ingrypend verander het. Hy het met ‘n sendeling in Marokko gepraat wat sewe jaar lank sonder enige sukses daar gewerk het. Otis het toe tot die gevolgtrekking gekom dat hy die doolhowe van die koninkryk van die duisternis moes ondersoek om vas te stel wat die rede vir die binding en geestelike verblinding is wat in sekere gebiede heers. Gedurende sy navorsing het hy 50 lande besoek en in 1997 die boek “The Twilight Labyrinth” (“Die Skemer Doolhof”) geskryf. In dié boek het hy onder meer die volgende stellings gemaak:

“In feitlik elke uithoek van die wêreld is daar sekere woongebiede, stede, kulture en volke wat meer intensiewe afgodediens beoefen en as gevolg daarvan groter weerstand teen die lig van die evangelie bied... Sekere reisigers het gevalle beskryf waarin die heersende geestelike atmosfeer verander het die oomblik toe hulle ‘n sekere gebied betree of verlaat het... Getuienis van dié aard ondersteun die afleiding dat geestelike duisternis aanvoelbaar en geografies gekonsentreerd is... Waarom vestig geestelik duisternis homself in sekere gebiede? Ek was oortuig daarvan dat hierdie eenvoudige vraag wêreldwye implikasies het, maar het toe nog nie besef hoe radikaal dit my hele visie en loopbaan daarna sou verander nie” (ibid, bl. 52-53).

Volgens Otis word die uitbreiding van die koninkryk van God deur onderdrukkende geestelike invloede teëgestaan. Hierdie demoniese vestings is die groot struikelblokke wat verwyder moet word voordat daar deurbrake met die verkondiging van die evangelie gemaak sal kan word. Hy het die proses van die versameling van geestelike intelligensie oor demoniese magte “spiritual mapping” (“geestelike kartering”) genoem. Die term het gou inslag gevind en hierdie aktiwiteit word oral as voorbereiding vir strategiese geestelike oorlogvoering gebruik, waardeur vestings van die Bose in sekere gebiede afgebreek word.

George Otis het in 1999 ‘n boek oor geestelike kartering geskryf: Informed Intercession: Transforming your Community through Spiritual Mapping and Strategic Prayer. Hy besoek stede oor die hele wêreld en gee aan geestelike leiers voorligting oor hoe om die geestelike geskiedenis en dinamiek van hulle stede te bepaal en op rekord te stel. Die stand van die Christendom moet ondersoek word, asook heersende sosiale bindings, historiese gebeure wat trauma veroorsaak het, die belangrikste filosofieë, ideologieë en godsdienste, en demoniese magte wat weerstand teen die Christendom bied. Groot byeenkomste word dan gereël en strategiese gebede teen al die vestings in die stad gebid, totdat hulle val. Metodes soos gebedsmarse word ook gebruik. Wanneer die magte van die duisternis oor die stad gebreek is, verander die geestelike gene (DNA) van die hele gemeenskap na bewering, en vind daar ‘n herlewing plaas, asook tye van voorspoed en ontwikkeling op alle terreine.

Otis se teorie oor territoriale bevryding, asook sy Transformasie-video’s, was die belangrikste beweegrede vir die reël van groot Transformasie-saamtrekke in baie lande – ook Suid-Afrika. ‘n Groot aantal plaaslike geestelike leiers, soos Bennie Mostert van Jerigo-mure, Graham Power van die Power-groep, Michael Cassidy van African Enterprise en Bruce Wilkinson van Turning the Tide, gooi hulle gewig by die Transformasie-beweging in omdat dit ook kerkgroei bevorder.

Dit is uit die Bybel egter duidelik dat demoniese vestings in die lug nie territoriaal afgebaken en ook nie oor hele gebiede neergewerp kan word nie. Die groot mag wat die duiwel in die wêreld het (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4; 1 Joh. 5:19), sal eers by die wederkoms van Christus gebreek word wanneer hy in ‘n bodemlose put gebind sal word (Op. 20:1-3). Eers dán, wanneer Jesus Christus se 1000-jarige ryk op aarde gevestig is, sal hele nasies en stede gered wees en saam die Here dien (Sag. 8:20-22).

In die huidige bedeling word individue egter soos brandhout uit die vuur geruk, en vind daar oral groter polarisasie tussen die gereddes en die ongereddes plaas (Op. 22:11). Diegene wat gered word, is min (Matt. 7:13-14), daarom is daar nie sprake van hele stede of lande wat uit satansmag verlos word nie. In beginsel kan alle mense gered word, maar in die praktyk het hulle steeds ‘n vrye wil en verkies die duisternis bo die lig, ongeag waar hulle bly (Joh. 3:19). George Otis se ekumeniese massasaamtrekke gaan nie die knoop deurhaak nie – ook nie sy strategiese geestelike oorlogvoering nie. Hy moet eerder na die kruis toe teruggaan en die reddende genade van die Here Jesus herontdek. Daarna moet die boodskap oral verkondig word, verkieslik op ‘n persoonlike vlak en in ‘n kleingroepverband, sodat elkeen wat wil, die water van die lewe kan neem, verniet (Op. 22:17). Die mag van Satan sal dan in die geredde persoon se lewe verbreek word, maar nie in sy hele familie, gemeenskap, stad of volk voordat almal van hulle ook individueel die saak met die Here reggemaak het nie.

Die Here Jesus verbreek die werke van die duiwel in persone se lewens wat hulle tot Hom bekeer, en sal dit eers op wêreldwye skaal doen wanneer Hy kom. Ons kan nie die verborge koninkryk van Christus sigbaar op die hele wêreld manifesteer voordat die Koning kom nie, daarom sal “dinamiese” koninkryksvisies van dié aard niks konkreets oplewer nie – net ontnugtering. Ons moet voortgaan om die goeie tyding van verlossing oral te verkondig, en die Here te vertrou dat baie mense gered sal word. Leer hulle dan om die volle wapenrusting van God aan te trek sodat hulle teen die liste van die duiwel (wat nog steeds in hul omgewing werksaam sal wees) staande kan bly. Los die koninkrykstransformasies vir die openbaring van Christus se koninkryk – dan sal dit vinnig en beslissend deurgevoer word.

Toename in mega-gemeentes

Die groei van mega-gemeentes in Amerika gaan teen ‘n hoë tempo voort. Volgens Dave Hunt se nuusbrief (The Brean Call, Feb. 2004) was daar in 1970 tien mega-gemeentes in die VSA – dit is nie-Katolieke gemeentes met ‘n weeklikse bywoning van 2000 of meer persone. Tans is daar 740 sulke gemeentes in die VSA. Die grootste gemeente is die Lakewood Church in Houston met meer as 25 000 persone wat die dienste elke naweek bywoon.

Wat is die rede waarom mense uit die meer konserwatiewe, evangeliese, medium-grootte gemeentes wegbreek en by mega-gemeentes aansluit? Kontemporêre musiek, die moderne besigheidstyl van dienste en die positiewe, opheffende aard van die boodskappe word as sommige van die redes hiervoor genoem. Die jeug sê hulle voel baie meer gemaklik hier en wil nie na hulle ou gemeentes terugkeer nie.

Tradisionele godsdienstige dogma, rituele en simbole het verdwyn. Die plek daarvan word deur moderne sang en positiewe, inspirerende boodskappe ingeneem. Daar word nie van die outydse, veroordelende boodskappe oor sonde en die hel gebring nie, want in die Here is ons nie slagoffers nie maar oorwinnaars. Die preke is bemoedigend en maklik om te verstaan: Jesus gee aan ons krag om positief te dink, en ons word deur Hom bemagtig om suksesvol en gelukkig te wees. Volgens Dave Hunt het die moderne styl van prediking die volgende doelstellings: “Let us entertain you, make you feel good about yourself, never offend you, keep it lite, meet your felt needs, build your self-esteem, make you happy, tickle your ears, be positive, make you comfortable, focus on you...” Die klem val nie meer op die evangelie van verlossing nie, maar op ‘n gelukkige aardse lewe. Hierdie benadering werk, want die kerkgeboue is volgepak.

Uit ‘n evangeliese, Bybelse oogpunt is die probleem met die mega-gemeentes nie hulle grootte nie, maar die redes vir hulle populariteit. Wanneer mens-gerigte in plaas van God-gerigte boodskappe gebring word, verval die leerstellige basis van die mens-God-verhouding omdat die struikelblokke in hierdie verhouding, naamlik sonde, nie genoem word nie. Daar word duidelik van hierdie onderwerp af, asook van die Heilige Gees se werk van sonde-oortuiging, weggeskram omdat dit nie met positiewe, opwindende gedagtes versoen kan word nie. Mense word net gehelp om van ‘n negatiewe na ‘n positiewe selfbeeld oor te skakel, maar dit is sielkundige heroriëntering en nie wedergeboorte nie. Wanneer die Bybelse verlossingsleer deur misleidende leringe van mense vervang is, is daar ook nie enige sprake van ‘n Bybelse leer oor heiligmaking nie.

Die massas mense wat hierdie geestelik hol en leë styl van godsdiensbeoefening verkies, moedig deur hulle teenwoordigheid en ruim finansiële bydraes die afvallige predikers aan om met hulle populêre, emosionele opruiery en geestelike verdigsels voort te gaan. Ons is duidelik hierteen gewaarsku, want “daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4).

Die wêreld druk nou sy stempel op die kerk af, en nie meer die kerk op die wêreld nie. Wanneer die antitese tussen die kerk en die wêreld verdwyn en in ‘n nuwe sintese opgaan, moet die ware Jesus Christus en sy getroue volgelinge eers op die agtergrond geskuif word, omdat hulle deur die wêreld gehaat word. Jesus het vir sy dissipels gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het” (Joh. 15:18). Wat sê die Here Jesus vir die belydende Christelike kerk wat Hom nog net in naam aanbid, maar in werklikheid ‘n nuwe vriendskap met die wêreld gesluit het? “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).

Die Here se lig sal nie meer deur gemeentes skyn wat Hom nie in Gees en waarheid dien nie. Selfs al is hulle suksesvolle makro-gemeentes wat in sy naam byeenkom, sal hulle net as godsdienstige klubs voortbestaan wat daarop ingestel is om mense se gehoor te streel. In plaas van die vrymakende kruisevangelie sal oorverdowende popmusiek van hulle af weerklink om “Christelike opwinding” aan ‘n verveelde en verdorwe mensdom te bied. Wanneer die hemelse Bruidegom sy ware volgelinge kom haal het, sal hulle geestelike bankrotskap ten aanskoue van almal geopenbaar word.

Die groot les wat die agtergeblewenes dan sal leer, is dit wat deur die eeue heen vir alle kerke gegeld het:  Slegs gemeentes waarin die gekruisigde Here Jesus sentraal in die prediking staan, sal die toets deurstaan.

Die einddoel van misleiding

Die groot slag wat Satan in verskeie van die vooraanstaande Christelike kerke geslaan het, is om mense baie subtiel van die kruis van die Here Jesus af weg te lei. Die goed beplande Christelike selfbeeldprogramme gee aan mense wat nie waarlik weergebore is nie, net ‘n gedaante van godsaligheid. Stappe word geneem om die half-gekerstende wêreldlinge so tuis as moontlik in die kerk te laat voel, en hulle te laat ervaar dat hulle lewens suksesvol en goed is. Daar is egter nie baie sterk oortuigings in sulke mense se lewens nie, daarom is die meeste van hulle oop vir bande met die Roomse Kerk én selfs ook met die nie-Christelike gelowe. Wederkomsprediking word heeltemal van hulle weerhou omdat hulle glad nie in staat is om tussen die ware Christus en die valse christus te kan onderskei nie. Hulle koninkryk het in elk geval hier op aarde al aangebreek – hulle wag nie vir een wat nog moet kom nie.

As gevolg van die huidige vlakke van misleiding is die wêreld nou gereed om die valse profeet te ontvang. Hy sal deur sy godsdienstige bedrog die reeds dwalende wêreldgemeenskap nog verder op die weg van misleiding meevoer. Hulle sal met min moeite oortuig word om die Antichris as die universele messias van alle gelowe te aanvaar. Die grootskaalse afwatering van ‘n Christelike verlossingsleer, asook die toenemende inslag van multigodsdienstige denke in voormalig evangeliese kerke, is die finale aanduiding dat die tyd vir die groot aanslag deur die Antichris en die valse profeet op wêreldleierskap baie naby is. Wanneer die teëhouer, die ware kerk, deur die wegraping weggeneem is, sal hierdie twee spesiale agente van Satan skielik met hulle valse vredes- en eenheidsboodskap op die toneel verskyn en universeel aanvaar word.

Hulle sal op die werk van hul wegbereiders voortbou en die aanhangers van alle gelowe daarvan oortuig dat hulle al die tyd vir dieselfde ‘Messias’ gewag het, en ook dat God behae in hulle ekumeniese eenheid het. Hierdie misleiding sal oral inslag vind en na die skepping van ‘n alliansie van wêreldgodsdienste lei. Almal van hulle sal die Antichris en die valse profeet aanhang. Diegene wat weier om saam te werk, sal hulleself aan verdrukking en vervolging blootstel.

Die huidige, populêre neiging onder liberale godsdiensleiers wat op eenheid, mag en rykdom ingestel is, baan nie die weg vir die koms van die ware Christus nie, maar vir die Antichris. Hulle mislei miljoene Christene om beginsels prys te gee en kompromie te maak, sodat vrede en eenheid op aarde geskep kan word. Moenie na valse profete luister wat in skaapsklere na jou toe kom nie, maar toets hulle boodskap deeglik voordat jy jou dalk tot jou eie skade en geestelike veragtering daarmee vereenselwig (1 Joh. 4:1; Matt. 7:15,21-23). Wanneer die ‘vredevors’ van alle gelowe kom, sal hy hierdie manne hoë lof toeswaai. Ná 3½ jaar sal die Antichris homself egter tot God verklaar en op almal se aanbidding aandring. Sal sy meelopers se oë dán oopgaan?

Watchman Nee 88