Print

Gevare van die Ekumeniese Beweging

Written by Prof Johan Malan.

‘n Verkorte weergawe van artikels deur dr. Opal Reddin van Central Bible College, VSA

Ek glo dat die grondslag vir samehorigheid in die ekumeniese beweging só breed is dat dit mense insluit wat die goddelike inspirasie van die Bybel, die godheid van Christus, die sondige natuur van die mens, die plaasvervangende dood van Christus as ‘n versoening vir ons sonde, asook ander belangrike leerstellings wat deur die Bybelse Christendom as noodsaaklik beskou word, verwerp.
  • Ek glo dat die oogmerke van die ekumeniese beweging in stryd met belangrike Bybelse oogmerke is, omdat hulle dikwels die noodsaaklikheid van persoonlike verlossing deur sosiale doelwitte vervang.
  • Ek glo dat die samevoeging van verskeie godsdienstige organisasies om ‘n oorkoepelende wêreldkerk te vorm, in godsdienstige Babilon van Openbaring 17 sal eindig.
  • Ek glo dat die evangelie ‘n “krag van God tot redding is vir elkeen wat glo” (Rom. 1:16). ‘n Vaste verbintenis aan hierdie leer sal ons teen ekumeniese bewegings beskerm wat die evangelieboodskap afwater en uiteindelik sal vernietig.

Die moderne ekumeniese beweging is net so gevaarlik as wat die Judaïseerders in die vroeë kerk was, met hulle valse evangelie van “Jesus plus die werke van die wet” (Hand. 15:1; Gal. 1:6-9; 2:1-21). Ons moenie verbaas wees dat daar vandag baie sulke mense tussen ons is nie. Die Judaïseerders was só invloedryk dat selfs Petrus en Barnabas tydelik deur hulle meegesleur is. Paulus het hulle onmiddellik en in die openbaar van skynheiligheid beskuldig, en die vloek van God oor ‘n valse evangelie verkondig (Gal. 1:6-9). Petrus en Barnabas het die waarheid van Paulus se woorde ingesien, hulle van hul dwalings bekeer en saam met Paulus die eerste kerkraadsvergadering in Jerusalem gaan bywoon, waar die Heilige Gees die kerk gelei het om die suiwerheid van die evangelie vir alle tye duidelik uit te spel (Hand. 15:2-28).

Katolieke Kerk neem die leiding in die ekumeniese beweging

Die huidige leier in die ekumeniese beweging is die Rooms-Katolieke Kerk. Hulle verkondig dieselfde dwaling as die Judaïseerders, naamlik “Jesus plus werke vir geregtigheid.” Soos Paulus en al die apostels het ons die bloedgekoopte voorreg om die evangelie van “Jesus plus niks nie” te verkondig. Deur sy afgehandelde werk aan die kruis het Jesus Christus voorsiening vir ons volle redding gemaak. Hy het “vir ons geword wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing” (1 Kor. 1:30).

Die leer van die Katolieke Kerk kan soos volg opgesom word:

1.    Hulle sal sê: “Ons stem met julle saam dat die Bybel goddelik geïnspireerd is,” maar hulle maak ook daarop aanspraak dat die Katolieke Kerk die hoogste gesag is en dat die Bybel volgens hulle voorskrifte vertolk moet word (Vatikanus II, Dei Verbum).

2.    Hulle kerklike tradisie erken die Godheid van Christus, maar omdat hulle ook vir Maria as “die Moeder van God” aanbid, vernietig hulle die betekenis van “Godheid”  (Katolieke Kategismus, 25).

3.    Hulle glo in die sondige natuur van die mens. Hulle glo egter ook dat die genadewerk van Christus deur die sakrament van die doop aan suigelinge bedien word, en dat hulle erfsonde deur die doop vergewe word (Raad van Trent, 22, 23, 54). Wanneer die kinders opgroei, word hulle deur die onbybelse leerstellings van boetedoening, die belydenis aan priesters, die aflaatstelsel en uiteindelik deur die vlamme van die vaevuur van hul sondes gereinig.

4.    Hulle sal sê: “Ja, ons glo in Christus se plaasvervangende versoening,” maar vir Katolieke is daar nie regverdiging deur Christus alleen nie. In hulle “Ekumeniese Verordening” staan daar: “Dit is deur Christus se Katolieke Kerk alleen dat die middels vir redding verkry kan word.” Hulle sê dat Christus redding moontlik maak, maar Hy is nie die enigste middel vir regverdigmaking nie.” Ander noodsaaklike genademiddels is die sakramente van die doop en die Nagmaal, en dié sakramente is slegs geldig wanneer hulle deur die Katolieke Kerk bedien word. Hulle glo ook dat Maria waarlik die Moeder van die Kerk is, en ‘n nuwe geboorte aan gelowiges skenk (Katolieke Kategismus, 25).

5.    Hulle bely geloof in die fisiese opstanding en die wederkoms van Christus, maar sê dat niemand vir sy koms gereed kan wees voordat hulle deur die reinigende vlamme van die vaevuur gegaan het nie.

6.    Hulle leer dat daar ‘n vaevuur is “omdat die gereddes gereinig moet word voordat hulle in die hemel kan ingaan” (Katolieke Kategismus, 268).

Bybelse kerkeenheid

Die kerk is die liggaam van Christus en die woning van God deur die Heilige Gees. Dit is die einddoel van God met die mens, daarom het “Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel o iets dergeliks” (Ef. 5:25-27). Elkeen wat uit die Gees gebore is, is ‘n lid van “die gemeente van die eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” (Heb. 12:23). Die kerk is universeel, met lede uit elke volk en taal en nasie. Dit is onsigbaar in dié sin dat dit onmoontlik is om die kerk as ‘n duidelike groep in enige spesifieke plek te sien. Die hele skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God (Rom. 8:19).

Een van die mees populêre onderwerpe vir bespreking in Christelike kringe vandag is “kerkeenheid.” Baie van die geestelike leiers sê: “Ons moet saamkom en die antwoord op Jesus se gebed in Johannes 17 gee.” Laat ons egter op die soort eenheid let waarvoor Jesus gebid het, op die feit dat sy gebed beantwoord is, en nog steeds beantwoord word volgens sy wil wat in die Bybel geopenbaar is.

Jesus het vir sy dissipels gebid “sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is (Joh. 17:22). Hy het gesê: “Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo” (Joh. 17:20). Ons is in verwondering as ons daaraan dink dat God die Seun tot God die Vader gebid het dat ons dieselfde eenheid moet hê as dit wat tussen hulle bestaan! Laat ons kyk watter soort eenheid dit is. In die eerste plek is dit ‘n geestelike eenheid. Die Vader en Seun is wesenlik een van alle ewigheid af (Joh. 17:5; 10:30). Ons weet dat God Gees is (Joh. 4:24) en dat God die Seun tydens sy inkarnasie ‘n mens met ‘n fisiese liggaam geword het (Joh. 1:14). Die essensiële eenheid tussen die Vader en die Seun is nooit verbreek nie omdat dit geestelik en onveranderlik is (Joh. 10:30). In die tweede plek bestaan hierdie eenheid in waarheid. Jesus het gesê: “Ek is die waarheid” (Joh. 14:6), en Hy het ook gebid: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Joh. 17:17). Derdens is hierdie eenheid in liefde. Jesus het gebid: “...sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het  net soos U My liefgehad het... sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees” (Joh. 17:23,26).

Jesus se gebed is beantwoord

Jesus se gebed vir eenheid is aanvanklik op Pinksterdag beantwoord, en die Gees-gewerkte eenheid is in die vroeë kerk geopenbaar. In Handelinge word die geboorte van die Christelike kerk beskryf. Die 120 plus 3000 is tot ‘n geestelike eenheid saamgevoeg omdat almal van hulle met die Heilige Gees vervul is (Hand. 2:4,38,41). Hulle is in die waarheid verenig en “het volhard in die leer van die apostels” (Hand. 2:42).

Alle verse wat na kerkeenheid verwys, maak dit duidelik dat die ware kerk, die liggaam van Christus, een is. Die enigste manier om ‘n lid van die ware kerk te word, is om tydens die wedergeboorte deur die Heilige Gees daarin geplaas te word; “soos die liggaam een is... en al die lede een liggaam is... want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam” (1 Kor. 12:12-13). “Wie die Here aanhang, is een gees met Hom” (1 Kor. 6:17). “Julle is almal een in Christus Jesus” (Gal. 3:28).

Ons word nêrens beveel om hierdie eenheid in te stel nie. Efesiërs sê dat ons die eenheid van die Gees moet bewaar deur die band van die vrede (Ef. 4:3), en dat Jesus vyf bedienings vir die opbouing van die liggaam gegee het, “totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof... tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Ef. 4:11-13). “Die geloof” is die liggaam van die suiwer Christelike leer, wat in die vroeë kerk goed bekend was en vir ons in die Nuwe Testament bewaar is.

Eenheid in leer is noodsaaklik

Ons stem saam met David Wells (No place for truth or: Whatever happened to evangelical theology? 1993:103) wanneer hy sê: “Daar is geen Christelike geloof sonder ‘n gesonde leer nie (1 Tim. 1:10; Titus 1:9).” Sonder dit het ons nie die Vader of die Seun nie (2 Joh. 1:9). Ons word aangesê “om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 1:3). Ons moet die geloof en ‘n gesonde leer bewaar (2 Tim. 1:13-14; 4:3). Ons weet dat duidelike stellings oor die geloof gemaak is, daarom het Paulus aan die Korinthiërs gesê: “Ek vermaan julle broeders... om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening” (1 Kor. 1:10). Dit is waarom kerke duidelike stellings van hulle geloof moet hê, waarin die basiese waarhede genoem word. Geloof en praktyk is onlosmaaklik aan mekaar verbonde (1 Joh. 2:3–3:18).

Daar is twee soorte verdeeldheid: die een van God en die ander een van Satan. Toe Paulus teen verdeeldheid gewaarsku het, het hy na slegte verdeeldheid verwys wat deur valse leerstellings veroorsaak word. Sommige mense “word van die geloof afvallig en hang verleidende geeste en leringe van duiwels aan” (1 Tim. 4:1). Johannes het gewaarsku teen “baie antichriste... wat van ons af uitgegaan het, maar hulle was nie van ons nie” (1 Joh. 2:18-19). Wat byeenkomste betref, het hy gesê: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie... want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (2 Joh. 1:10-11). Paulus het vir die Romeine gesê: “Hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle” (Rom. 16:17).

‘n Slegte vorm van verdeeldheid word dus deur valse leerstellings veroorsaak. Daar is egter ‘n goeie en noodsaaklike vorm van verdeeldheid, en dit gebeur wanneer mense hulleself op grond van die waarheid van alle dwalings afskei (Joh. 17:17). Jesus sê dat Hy gekom het om “eerder verdeeldheid” te bring (Luk. 12:51). Hy het sy kerk van die Judaïsme afgeskei wat Hom verwerp het (Joh. 1:11). Paulus het sy posisie van verdeeldheid gehandhaaf deur die dwaling van die Judaïseerders ‘n “ander (vervloekte) evangelie” te noem (Gal. 1:6-9). Sonder hierdie verdeling sou die Christendom geleidelik in ‘n sekte van Judaïsme ontwikkel het.

Probleme in huidige ekumeniese bewegings

Die Wêreldraad van Kerke het as deelnemers by hulle konferensies nie net lede van Christelike kerke uitgenooi nie, maar ook aanhangers van nie-Christelike gelowe. By hulle konferensie in Canberra in 1991 was daar benewens Christene ook Jode, Moslems, Boeddhiste, Hindoes en Sikhs. ‘n Koreaanse Presbiteriaanse professor het aan die einde van die konferensie die gees van Han opgeroep en met die plaaslike inboorlinge se voorvadergeeste gekommunikeer.

Die Rooms-Katolieke Kerk se ekumeniese beweging werk op verskillende maniere. Hulle nuwe kategismus het nie hulle aanspraak verander dat daar geen saligheid buite die Kerk van Rome is nie. Al hulle verwerplike dwalings is nog daar, insluitende doopsaligheid, genadebetoning deur die mis wat op die beginsel van transsubstansiasie gebaseer is, gebede aan Maria, boetedoening en die vaevuur. Hulle saligheid is “geloof plus werke,” met ander woorde dieselfde as die dwaling van die Judaïseerders, wie se leer deur Paulus anatema genoem is (Gal. 1:6-9).

Die doel met die Katolieke Kerk se dialoog met ander gelowe is om alle Christene in een kerk saam te bring. Hulle stel hulle ekumeniese oogmerk só: “Die gevolg sal wees dat, bietjie vir bietjie, alle Christene versamel sal word in ‘n eenheidsverband met die enigste Kerk. Hierdie eenheid, glo ons, bestaan binne-in die Katolieke Kerk as iets wat ons nooit kan verloor nie.” Hulle maak die sambreel van die Kerk groot genoeg om ook sommige nie-Christelike gelowe in te sluit: “Die plan van verlossing sluit almal in wat die Skepper erken [Moslems en Jode]; saam met ons vereer hulle dieselfde, genadige God.”

Gevaar: die verlies aan die waarheid

In 1994 het ‘n groep Katolieke en Evangeliese leiers ‘n dokument opgestel wat as ECT bekend staan: “Evangelicals and Catholics together in MIssion.” Hierdie dokument is duidelik ‘n oproep vir sigbare eenheid ten koste van die waarheid. ‘n Noodsaaklike leer van die ware kerk, naamlik “regverdigmaking deur die geloof,” word nouliks in hierdie dokument genoem, en tóg verteenwoordig dit ‘n duidelike verskil tussen Protestante en katolieke. ECT verbied die maak van proseliete, wat beteken dat Katolieke nie geëvangeliseer mag word nie. Miljoene siele sal dus ter wille van mensgemaakte eenheid in die duisternis van ‘n valse evangelie gelaat word.

Watchman Nee 88