Print

Prof. Spangenberg sit sy Veldtog Voort

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Prof. Sakkie Spangenberg van Unisa bou voort op sy argumente waarom die “meesterverhaal” van die Bybel ‘n versinsel is, en Jesus se kruisdood volgens hom geen heilswaarde het nie.

Die verwerping van evangeliese beskouings oor die maagdelike geboorte en Godheid van Jesus, asook die goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel, gaan onverpoosd voort en is besig om in felheid toe te neem. Een van die leidende persone in hierdie veldtog in Suid-Afrika is prof. I.J.J. (Sakkie) Spangenberg, ’n teoloog verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Prof. Spangenberg het in 2003 ’n atikel met die titel “Wat moet ons weet en wat kan ons nog glo?” in die NG Teologiese Tydskrif gepubliseer. Hierin verwys hy na die “meesterverhaal” wat ’n kort opsomming is van kernwaarhede in die Bybel oor Adam en Eva, die erfsonde, Ou Testamentiese vooorspellings oor die koms van Jesus Christus, sy offer aan die kruis, sy opstanding, hemelvaart en wederkoms. Hy verduidelik dan hoe die meesterverhaal volgens hom nie uit die Bybel kom nie, maar kreatief deur die kerkvaders uitgedink is. Hierna gaan hy aan om te wys hoe ontdekkings en nuwe feite deur die eeue heen die meesterverhaal stelselmatig afgebreek het. In sy artikel sê hy onder meer die volgende:

“Ingeligte en denkende Christene weet dat die heelal, die kontinente en lewe op ons planeet anders ontstaan het as wat Génesis vertel... [Hulle] werk nie met ’n drieverdieping heelal nie en kan nie meer hulle geloofsinsigte aan die hand daarvan formuleer nie. Hemel en hel is nie meer vir hulle aanwysbare en bewoonbare plekke nie...

“Die erfsondeleer is ’n uitgediende teologiese konstruksie wat nie so in die Ou Testament staan nie en nie so deur Jesus en sy dissipels verkondig is nie. Sonde is egter ’n realiteit wat saamhang met ons doen en late en waarvoor ons verantwoordelikheid moet aanvaar – ons moet dit allermins op die rekening van die duiwel en sy engele plaas. Ingeligte, denkende Christene werk met ’n interne lokus van beheer en nie ’n eksterne lokus van beheer nie.

“Ou Testamentiese profesieë het nie vir Jesus van Násaret voorspel nie... Die verhale van Jesus se maagdelike geboorte in Mattheus en  en Lukas moet as verhale gelees word wat Jesus as ’n besondere persoon voorhou. Besonderse mense het in die antieke tyd besondere geboorteverhale gehad, soos byvoorbeeld Samuel en Simson. Die geboorteverhale het niks te doen met erfsonde en dat Jesus sondeloos gebore moes word nie...

“Jesus het in sy prediking hoofsaaklik op die koninkryk van God gefokus. Daardie koninkryk het nie met ’n hemelse ryk agter die wolke te doen nie. Vir Jesus van Násaret het dit oor God se regering hier op aarde gegaan... Daar is duidelik ’n sosiale dimensie aan Jesus se prediking...

“Jesus se kruisdood is deur sommige Nuwe Testamentiese skrywers as ’n finale offer geïnterpreteer omdat die Joodse offerkultus met die val van die tweede tempel vir goed daarmee heen was. Dit het die Joodse gelowiges gehelp om die traumatiese gebeure rondom die val van die tweede tempel te verwerk... Jesus se kruisdood was egter ’n politieke gebeurtenis en nie ’n voorvereiste vir God se vergifnis nie. Dwarsdeur die Ou Testament staan dit dat God vergewe as gelowiges hulle sonde bely en laat vaar... Jesus sterf nie om ons van sondes te verlos en ons in die hemel te kry nie...

“Die opstandingsverhale moet as herverskyningsverhale gelees word. Dit is onbetwisbaar dat hierdie herverskyningsverhale in die vroeë Christendom ’n belangrike rol gespeel het. Binne ons leefwêreld beleef mense nie meer herverskynings nie, daarom moet ons hierdie verhale lees soos dit in daardie konteks (die Joodse konteks) bedoel was. Dit is verhale wat bevestig dat Jesus ’n regverdige mens was – daarom verdwyn sy lewe nie sommer in die niet nie, maar is vir ander tot seën, voorbeeld en rigsnoer.

“Jesus se totale lewe en prediking het om God gedraai. Hy het nie Homself kom preek en vertel dat Hy maagdelik verwek is deur die Heilige Gees en gevolglik sondeloos is nie. Voorts het Hy ook nie verkondig dat Hy uit twee nature (’n menslike en ’n goddelike) bestaan nie. Die leer oor die twee nature is ‘n kreatiewe skepping van die kerkvaders om Jesus sinvol in hulle tyd en konteks te kon verkondig... Dit moet teen die agtergrond van die vroeë Judaïsme verstaan word...

“Jesus self het nie die Christelike godsdiens beoefen nie, maar die godsdiens waarin sy ouers Hom grootgemaak het, te wete, Judaïsme van die tweede tempel-tydperk. Daarom is Hy as kind besny, Hy het die tempel en sinagóges besoek, spreuke uitgespreek en gelykenisse vertel wat met daardie godsdiens verband gehou het.”

Die Persoon en werk van die Here Jesus, die Bybel as God se onfeilbare Woord, asook verskeie stellings in die Bybel, word só in prof. Spangenberg se artikel verloën:

·         Die skeppingsverhaal in Génesis word nie deur die moderne mens met al sy kennis aanvaar nie.

·         Daar bestaan nie sulke plekke soos die hemel en die hel, wat eendag deur mense bewoon sal word nie.

·         Die mens het nie ’n sondige natuur van Adam geërf nie, en word ook nie deur Satan beheer of versoek nie. Hy bepaal self sy standpunte en optredes.

·         Daar is nie Messiaanse profesieë in die Ou Testament wat Jesus se koms voorspel het nie.

·         Jesus is nie sondeloos gebore nie, en stellings oor sy maagdelike geboorte moet metafories verklaar word.

·         Jesus het nie deur sy dood aan die kruis ’n offer vir ons sondes gebring sodat ons daardeur gered kan word en hemel toe gaan nie. Dit is ’n Joodse siening.

·         Jesus se kruisdood was ’n politieke gebeurtenis en nie ’n voorvereiste vir die vergifnis van sonde wat God aan ons bied nie. God vergewe ons omdat Hy vergewensgesind is; nie omdat Jesus gesterf het nie.

·         Jesus het ’n sosiale evangelie verkondig wat nie op die hemel ingestel is nie, maar op die realisering van ’n aardse koninkryk.

·         Die “verhaal” oor Jesus se opstanding kan nie deur die moderne mens letterlik opgeneem word nie. Dit was bloot ’n Joodse manier om te sê dat die boodskap van sy lewe sou voortbestaan.

Prof. Spangenberg vind aansluiting by ’n groot aantal eendersdenkende teoloë in die wêreld wanneer hy hierdie sienings van hom verkondig. Dit het in ons tyd mode geword om die Naam van die Here Jesus as die sondeloos volmaakte Seun van God te verloën, die heilsbetekenis van sy kruisdood te ontken en ook die Bybel as die Here se geïnspireerde Woord in twyfel te trek. Baie van die beloftes van God aan die gelowiges van alle eeue word as tydgebonde, menslike sienings afgemaak wat nie letterlik opgeneem moet word nie.

Bybel lankal onder skoot

Prof. Spangenberg is etlike jare reeds besig om die Bybel se geloofwaardigheid te diskrediteer, en ontken ook dat daar enige Messiaanse profesieë in die Ou Testament is. In sy boek, “Perspektiewe op die Bybel – God se Woord in mensetaal” (1998), sê hy dat Daniël niks geprofeteer het nie. Die boek is volgens hom nie deur Daniël geskryf nie, maar deur iemand anders wat in die laaste twee eue voor Christus geleef het toe die dinge wat “Daniël” na bewering voorspel het, reeds gebeur het.

Daar word volgens prof. Spangenberg ook niks van Jesus of die Antichris in Daniël voorspel nie. Die feit dat Mattheus van Daniël se gruwel van die verwoesting praat, moet gesien word in die lig van die feit dat Mattheus by Markus afgeskryf het. Markus praat egter nie van Daniël nie, daarom het Jesus dit ook nie gedoen nie. Mattheus het dit sommer net bygevoeg.

Persone wat die goddelike openbarings as basis vir die skryf van die Bybel (2 Tim. 3:16-17; 2 Pet. 1:19-21) só uitdruklik bevraagteken, neig dikwels daartoe om humanistiese verklarings aan Bybelse uitsprake te koppel. Hulle kyk filosofies na die denkpatrone van ’n bepaalde tyd, en toon ook die invloed van populêre bygelowe van daardie tyd op bybelskrywers se sienswyses aan. Die gevolg is dat ons ’n mengelmoes het van goddelike inspirasie, menslike opinies, bygelowe wat skrywers se sienings beïnvloed, foute wat by die oorskryf van sekere dele kon ingesluip het, asook byvoegings.

Wanneer die Bybel tot op hierdie vlak afgetrek is, word die deur vir humanistiese spekulasie oopgemaak, asook ‘n multigodsdienstige ingesteldheid, want dan kan ons na enige ander “stemme” luister. In ’n referaat wat prof. Spangenberg in 1996 in Stellenbosch gelewer het, het hy gesê: “Die NG Kerk staan aan die begin van die 21ste eeu voor twee groot uitdagings: Die eerste een het te doen met die kerk se siening oor die Bybel, en die tweede een met sy siening van ander godsdienste. Hierdie twee uitdagings hang ten nouste saam. Is die kerk bereid om sy siening van die Bybel te herformuleer en selfs te erken dat Jona ‘n verhaal is, of gaan hy ’n onverdraagsame houding teenoor diegene inneem wat ‘n ander siening van die Bybel voorstaan? Is hy bereid om te erken dat die Christelike godsdiens nie alleen op openbaring aanspraak kan maak nie, en dat ander godsdienste mense kan help om sin in die lewe te ervaar?”

Die stryd vir die behoud van die waarheid duur voort. (Inligting is deur ds. David Malan van Newcastle verskaf).