Print

Die Bindende Mag van Kerklike Dogma

Written by Prof Johan Malan.

Baie mense ontdek soms groot waarhede in die Bybel, net om hulle teen onversetlike predikante vas te loop wat selfs weier om duidelike, Bybelse uitsprake oor ’n saak te aanvaar. Die rede vir hierdie houding is die feit dat predikante hulleself onbeweeglik aan hulle kerk se leerstellings vasgeteken het. Die volgende legitimasie-verklaring moet bv. deur N.G. leraars onderteken word:

PLEGTIGE LEGITIMASIE-VERKLARING: DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK

Ek, die ondergetekende, ............ oortuig van my roeping deur die Here en toegelaat tot die openbare bediening van die Woord in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, verklaar hiermee voor die Here:

1.      Dat ek glo dat die leer vervat in die drie algemene belydenisskrifte en die drie Formuliere van Eenheid – die Nederlandse Geloofsbelydenis (Confessio Belgica), die Heidelbergse Ketegismus en die Dordtse Leerreëls, ooreenkom met die Woord van God;

2.      dat ek hierdie leer getrou sal verkondig en uitleef;

3.      dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is sal weerlê en alles in my vermoë sal doen om dit uit die Kerk te weer;

4.      dat, indien ek later enige beswaar of ander insig oor die leer ontwikkel, ek dit nie sal leer of bevorder voordat ek dit aan ‘n bevoegde kerkvergadering vir ‘n beslissing voorgelê het nie;

5.      dat ek my aan die orde van die NG Kerk sal hou;

6.      dat ek, om beroep te word, volgens die Kerkorde en besluite van die Nederduitse Gererformeerde Kerk sal optree;

7.      dat ek my op die uitbreiding van die Koninkryk van God sal toelê deur die bevordering van die kennis van, vertroue in en gehoorsaamheid aan die Drie-enige God.

Kommentaar: In die legitimasie-verklaring hierbo word daar nie in die eerste plek aan die Here Jesus of aan die Bybel trou gesweer nie, maar aan die belydenisskrifte van die kerk. Hierdie dokumente is deur feilbare mense opgestel en wyk in verskeie opsigte van die Bybelse leer af: ‘n Verbondsteologie gebaseer op die uitverkiesingsleer word hierin verkondig. Dit ondermyn evangeliese beskouings oor die mens se vrye wil, die belangrikheid van wedergeboorte ná bekering, en maak ook nie uitdruklik vir die leer oor heiligmaking as ‘n tweede genadewerk, soos deur dr. Andrew Murray e.a. in die herlewingstyd verkondig is, voorsiening nie. Verder het dit ‘n hoogs misleidende eskatologie met geen verwysing na die herstel van Israel, die wegraping, die verskyning van ‘n persoonlike Antichris, die groot verdrukking en die vrederyk nie. In plaas hiervan verkondig die belydenisskrifte ‘n vorm van koninkryksteologie deur te beweer dat die hele tydperk tussen die eerste en die tweede koms van Christus die duisendjarige vrederyk is waarin die duiwel gebind is en Jesus Christus saam met die ontslape heiliges oor die aarde regeer. Die vergeesteliking van basiese uitsprake lei tot ‘n vervangingsteologie waarin daar bv. verkeerdelik beweer word dat die kerk die Israel van Nuwe Testament is.

Wat sê die Woord self oor buite-Bybelse teologiese dokumente wat tot ‘n gesagsposisie gelyk aan die Bybel verhef word? Dit waarsku baie sterk teen só ‘n gebruik en beklemtoon die feit dat sulke mensgemaakte leerstellings in werklikheid voorrang bó die Woord sal geniet, en tot ‘n dooie vormgodsdiens sal lei. Eerste eeuse teoloë is ernstig teen dié gebruik gewaarsku: “Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas… So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het” (Mark. 7:6-8,13). Die oorlewerings wat in die geval van die NG Kerk en sy susterskerke ter sprake is, kom van “kerkvaders” soos Augustinus en Calvyn af. Hulle sienings word selfs meer geesdriftig as die Bybel verdedig, gehandhaaf en afgedwing.

Die bindende aard van die legitimasie-verklaring laat geen ruimte daarvoor dat ‘n predikant in persoonlike Bybelstudie tot oortuigings kan kom wat in stryd met die kerklike geskrifte is nie. Punt 3 verklaar alle sienings wat van die kerkleer afwyk, as dwalings. Volgens die bepalings van punte 4 en 5 moet enige nuwe oortuigings aan ‘n bevoegde kerkvergadering voorgelê word, wat dit uit die aard van die saak nie sal aanvaar as dit van die kerkleer afwyk nie. Dit is die rede waarom predikante van alle denominasies wat hulleself aan menslike dogmas verbind en vasgeteken het, nie vir oortuigings buite hulle belydenisskrifte oop is nie. Indien hulle ander sienings sou verkondig, bv. die wegraping en die herstel van Israel, kan daar tugstappe teen hulle ingestel word. Dit is die rede waarom dogmaties voorgeskrewe prediking altyd voorspelbaar, eensydig en stereotiep is. Dit is duidelik nie op die “hele waarheid” van God se Woord gebaseer nie (Joh. 16:13). As gevolg hiervan verkondig baie predikers nie die suiwer, vrymakende Woord van God wat aan ons oorgelewer is nie (Joh. 17:14-17), maar ‘n eensydige vertolking daarvan. Die geloofsbelydenis en die wet word oor en oor gelees, in plaas van duidelike stellings en nuwe perspektiewe op die vrymakende krag van die kruisboodskap.

Die rigiede liturgiese patroon van die erediens lei dikwels daartoe dat mense nie meer luister nie en die kerk ’n uur later net so hol en leeg verlaat as toe hulle daar aangekom het. Kan ’n prediker wie se gedagtes primêr deur die drie belydenisskrifte gevorm word, met enige oortuiging saam met Paulus sê: “...my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (1 Kor. 2:4)? Dit is te betwyfel. Die ernstige geestelike stagnasie in die meeste gemeentes bewys die teendeel.

‘n Verdere implikasie van omstrede dogmas wat deur eedsverklarings op predikers afgedwing word, is die gebruik van voortgesette menslike intervensie op leerstellige vlak. Sinodes eien hulleself die reg toe om die kerklike leer telkens te hersien en aan te pas, selfs al beteken dit die aanvaarding van skreiend onbybelse sienings wat lei tot die bevraagtekening van die Bybel as die foutlose en geïnspireerde Woord van God, die verwerping van die maagdelike geboorte (en dus die Godheid) van die Here Jesus, asook die kondonering van die sonde van homoseksualisme. Dié gees van vrysinnigheid, en die gevolglike ontkenning van Skrifgesag, skep ruimte vir teoloë om Bybelse beginsels te bevraagteken en te verwerp. Is hulle nie aan tug onderhewig nie?

Daar is wél ‘n minderheid evangeliese predikante wat hulle nie deur sinodes, dogmas en teologiese opinies laat bind nie, maar daar word gou druk op hulle toegepas om te konformeer, omdat daar in die kerklike strukture en belydenisse nie veel beweegruimte aan hulle gebied word nie. Verskeie van hulle het al bedank om met bedienings te begin waarin hulle nie in só ‘n drukgang vasgevang en daardeur beperk word nie. Dit gaan altyd met groot opofferings gepaard, maar sulke mense bewys ten minste dat die waarheid vir hulle belangriker as kerklike status, sosiale aanvaarbaarheid of finansiële gewin is. Word daar omstrede kerkleer aan jou opgedis, of word jy met die onvervalste melk van die Woord bedien? (1 Pet. 2:2; vgl. Ef. 4:13-14).