Print

Watse Liefde is Dit? Calvinisme se Wanvoorstelling van God

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Hierdie artikel oor die dwalings van Calvinisme is ‘n kort opsomming van Dave Hunt se nuwe boek: What Love Is This? Calvinism's Misrepresentation Of God.

Dave Hunt van die VSA het bekendheid verwerf vir sy aktuele boeke oor die misleidende leerstellings van die Rooms-Katolieke Kerk (A Woman Rides The Beast), verskeie charismatiese dwalings (The Seduction of Christianity), asook die okkultiese, spiritistiese en intergeloofstegnieke wat baie van die moderne kerke onder die vaandels van humanistiese sielkunde, ekumeniese eenwording en ‘n tekens-en-wonders-herlewing binnegedring het (Occult Invasion). Sy jongste boek (What Love Is This?) is ‘n indringende ondersoek na die dwalings van Calvinisme.

In hierdie boek word onweerlegbare getuienis aangebied dat die Calvinistiese teologie nie die produk van ‘n evangeliese hervormingsbeweging weg van Rome se dwalings af is nie, maar eerder ‘n alternatiewe interpretasie van Rooms-Katolieke teologie soos wat dit eeue tevore deur Augustinus geformuleer is. Hoewel hervormers soos Luther en Calvyn hulle van sekere Roomse dwalings en praktyke gedistansieer het, het hulle die onderliggende teologiese beginsels van die Vatikaan in ‘n nuwe kerklike beweging voortgesit. As gevolg hiervan het die verantwoordelikheid op evangeliese leiers gerus, soos Arminius en andere, om met ‘n Bybelse-gefundeerde hervormingsbeweging uit Calvinisme te begin.

Die kerk as ‘Moeder’

Misplaaste lof word aan Calvyn as ‘n goeie eksegeet toegeswaai. Baie van dit wat hy geleer het, is dwalings en in sommige gevalle niks anders as kettery nie. Sy kundigheid as eksegeet is sterk onder verdenking. Die meeste van sy leerstellings is opgewarmde Rooms-Katolisisme, soos uit die volgende aanhaling oor die rol van die kerk uit sy Institusies van die Christelike Geloof blyk:

“Ek glo in ‘n Heilige, Katolieke (Algemene) Kerk… waaruit voortdurende vergifnis van sondes en volle herstel na die ewige lewe vloei… Ons moet van die sigbare Kerk én haar titel as ‘Moeder’ leer hoe bruikbaar en noodsaaklik kennis oor haar is, omdat daar geen ander manier is waarop ons tot die lewe kan kom as om uit haar gebore te word, deur haar bors gevoed te word, en onder haar sorg en regering te staan nie, totdat ons die sterflike vlees verlaat en soos engele word… Buite die kerkstruktuur kan daar op geen vergifnis van sonde of redding gehoop word nie, soos wat Jesaja en Joël getuig (Jes. 37:32; Joël 2:32)… daarom is die verwerping van die Kerk altyd noodlottig” (kyk Hunt 2002:36).

Nêrens in die Skrif word die kerk egter ‘Moeder’ genoem of met die vermoë tot die geboorte van geestelike lewe gekrediteer nie. Die enigste kerk wat ‘Moeder’ genoem word, is die valse “moeder van die hoere” in Openbaring 17:5. Die ware kerk word nooit as ‘n instrument tot redding en die vergifnis van sonde voorgehou nie. Calvyn het bloot Rooms-Katolieke idees weergegee wat hy gedurende die eerste 24 jaar van sy lewe as ‘n toegewyde Katoliek geleer het, asook dit wat hy uit die geskrifte van Augustinus, die grootste van alle Katolieke, gekry het.

Wat die verwysing na Jesaja 37:32 en Joël 2:32 betref, kan selfs nie eers ‘n ooraktiewe verbeelding die vaagste verwysing na die kerk hierin sien nie. Jesaja verwys na ‘n oorblyfsel van Israel wat gedurende die komende oordele van die berg Sion af sal ontvlug, terwyl Joël van ‘n oorblyfsel van Israel praat wat in Sion gered sal word. Selfs indien iemand verkeerdelik die kerk en Israel gelykstel, ondersteun hierdie verse nog steeds nie Calvyn se stelling oor die kerk nie.

Toe Calvyn ‘n Protestant geword het, het hy die kerk van Rome as die ware kerk verwerp deur dit as vals en afvallig te beskou. Ten spyte hiervan het hy egter baie van die Katolieke Kerk se valse struktuur en sienings oorgeneem, soos bv. die suigelingsdoop en kerklike ampsdraers met spesiale magte om sakramente te bedien (Hunt 2002:37).

Calvyn se Institusies

Johannes Calvyn (gebore 1509) het homself vroeg in 1533 tot Luther se Protestantisme bekeer. Slegs twee jaar later het hy die eerste uitgawe van sy Institusies van die Christelike Geloof klaar geskryf. Dit was ‘n uitbreiding van Augustinus se teologie, en is verder ook op die Vulgaat (die amptelike, Latynse Bybel van die Rooms-Katolieke Kerk) gebaseer. Die Institusies van Calvyn dra die stempel van 'n groot intellektuele vermoë, maar duidelik nie van geestelike rypheid nie. Sy leerstellings is ook nie nuut nie, maar 'n herbevestiging van Augustinus se dogma.

Hoewel Calvyn, soos Luther en ander hervormers, die pous verwerp en die Bybel as sy enigste gesag aanvaar het, het hy swaar op Augustinus se interpretasie van die Bybel geleun en ook sy eie humanistiese logika gebruik om begrippe te verklaar wat slegs geestelik onderskei kan word (1 Kor. 2:14). Sy jeug, gebrek aan geestelike rypheid en die kort periode sedert sy wegbreek uit die Katolieke Kerk, het daartoe gelei dat hy sy groot intellektuele vermoë, eerder as geestelike insig, gebruik het om standpunte te formuleer. Dit het hom ernstige foute laat begaan. In Genève het hy in sy oorywerigheid en sterk ambisie ‘n vennootskap tussen die kerk en staat geskep (soos wat Luther ook gedoen het) en daardeur een van die Katolieke Kerk se ernstigste dwalings voortgesit. Die dwaling van staatskerke is vandag nog ‘n groot hindernis in Europa, omdat dit totaal in botsing met Christus se leerstellings is.

Ander, hoogs misleidende beginsels van Calvyn is sy ekstremistiese siening van God se soewereiniteit, waarin die menslike wil as ‘n faktor ontken word, asook sy siening dat die kerk God se koninkryk op aarde is. Dit is egter beginsels wat reeds deur Augustinus geformuleer is. Calvyn se siening oor predestinasie is só ekstreem dat hy God die outeur van alle dinge maak – ook van sonde, omdat niks sonder sy voorafbepaling kan gebeur nie. Hy sê dat God nie alleen alle dinge voorsien het nie, maar ook gereël het. Alles wat gebeur, gebeur dus volgens sy soewereine voorbeskikking. Calvyn leer duidelik dat God in terme van hierdie beginsel sommige mense vir die hemel uitverkies het, terwyl Hy bepaal het dat die res almal hel toe moet gaan.

Dwarsdeur sy Institusies noem Calvyn nouliks God se liefde, omdat hierdie attribuut volgens hom sekondêr tot God se soewereiniteit is. Hy stel dit só:

"Ons sê dan dat die Bybel duidelik bewys dat God deur sy ewige en onveranderlike raad bepaal het wie volgens sy wil gered sal word, en aan die ander kant, diegene wat volgens sy wil tot vernietiging verdoem sal word. Ons glo dat die raadsbesluit oor die uitverkorenes op sy vrye genade gebaseer is, sonder die inagneming van menslike meriete, terwyl diegene wat verdoem word, deur 'n regverdige en blaamlose oordeel van die lewe uitgesluit word."

God se genade, soos Calvyn dit verstaan het, was baie beperk. Hy lê die grootste klem op God se regverdigheid, en sê dat God regverdiglik die hele menslike ras kan verdoem. Die werklike vraag is egter of 'n God wat liefde is, sal nalaat om verlossing aan enigeen aan te bied. Die Bybel beklemtoon God se liefde vir alle mense duidelik, asook sy begeerte dat almal gered sal word. Dit is ter wille van die verdediging van God se liefde en karakter dat ons Calvinisme aan 'n skriftoets moet onderwerp.

Volgens Calvyn het redding niks daarmee te doen of 'n persoon die evangelie glo of nie. Volgens hom kan niemand geloof tot redding beoefen voordat God hom wederbaar het en geloof in diegene wat Hy uitverkies het, se harte geskep het nie. Calvyn beweer dat 'n mens só verdorwe is dat daar by hom 'n totale onvermoë is om die Here aan te neem en gered te word. God laat mense dus glo, net soos wat Hy sommiges laat sondig.

Die gevolgtrekking hiervan is dat God, wat liefde is, nie alle mense genoeg liefhet om hulle van die ewige verderf te red nie, want Hy reserveer sy liefde net vir 'n selektiewe groep mense wat Hy tot saligheid uitverkies het. Calvyn probeer om hierdie gebrek aan liefde te verklaar deur dit aan die misterie van God se wil en doel toe te skryf.

Geen rasionalisering kan Calvyn se uitgesproke stelling verklaar dat dit "God se welgevallige wil is om diegene wat Hy deur sy voorbeskikking voor hulle geboorte by die uitverkiesing uitgesluit het, tot die ewige dood te verdoem" nie. Hierdie soewereine voorbeskikking van sommige tot heerlikheid en ander tot foltering sal, volgens Calvyn se manier van dink, "ons verering van God se heerlikheid bevorder." (Hunt 2002:38-43).

Die onbybelse invloed van Augustinus

Wat Calvyn se teologie betref, is dit duidelik dat sy Rooms-Katolieke agtergrond tot vooropgestelde en foutiewe idees gelei het, eerder as dat hy 'n ernstige studie van die Bybel onderneem het. Baie Calviniste erken dat die geskrifte van Augustinus die werklike bron van die meeste van Calvyn se beskouings is. Die feit is dat Augustinus ook die hoogs geëerde heilige in die Rooms-Katolieke Kerk is, terwyl Luther en Calvyn voortgegaan het om hom as die mees gesaghebbende teoloog te beskou en aan te haal.

In die vierde eeu het die Donatiste 'n beweging gelei wat op die suiwering van die kerk gerig was. Dit was hulle oortuiging dat die kerk 'n rein gemeenskap van ware gelowiges moet wees, wat die waarheid van die evangelie in hulle lewens moet demonstreer. Hulle het die kompromie verafsku wat Konstantyn gemaak het deur die Christendom en die heidendom te vermeng ten einde eenheid in sy ryk te skep. Volgens hulle moes die kerk homself van die goddelose wêreld afsonder.

Augustinus het die kerk as 'n mengsel van gelowiges en ongelowiges gesien, wat ter wille van eenheid saam moes bestaan. Hy het van staatsgesag gebruik gemaak om kerkbywoning en deelname aan die sakramente af te dwing, soos wat Calvyn 1200 jaar later ook gedoen het. Sodoende het Augustinus die vader van die Inkwisisie geword – 'n kerklike regbank wat afvalliges en ketters vervolg en gestraf het. Hoewel hy oorreding verkies het, was Augustinus ten gunste van die doodstraf vir ketters, asook diegene wat hulleself as gelowiges ná hulle bekering laat oordoop het. In sy stryd teen die Donatiste het hy 'n verdraaide siening van Lukas 14:23 gebruik om dwang te regverdig.

Dit is die man wat bo alle ander mense deur Calvyn bewonder is, en op wie hy vir sy teologiese standpunte vertrou het. Hy het in Genève dieselfde beginsels van straf en dwang toegepas wat deur Augustinus gepropageer is. Calvyn het hierdie sisteem van die gebruik van staatsgesag om mense te dwing, nog meer rigied toegepas en ook sy optrede op grond van Lukas 14:23 geregverdig. Aanvaar die mense wat Calvyn vandag nog steeds as 'n groot eksegeet vereer, hierdie interpretasie van die teks in Lukas, asook die militêre geweld en regsdwang wat hy na aanleiding daarvan gebruik het?

Calvyn het talle dwalings van Augustinus oorgeneem en dikwels uitsprake gemaak soos: "Bevestig op gesag van Augustinus." In sy Institusies haal hy Augustinus meer as 400 keer aan en noem hom 'n "heilige man” en 'n "heilige vader." Die volgende dwalings is onder meer van Augustinus oorgeneem:

·       Suigelingsdoop vir wedergeboorte (doopsaligheid) en die verdoeming van kinders wat nie gedoop is nie. 'n Kind se sondes word deur die doopwater weggewas.

·       Redding slegs deur die bediening van sakramente in die kerk. Augustinus het gesê: "Net die Katolieke (Algemene, verenigde) Kerk is die liggaam van Christus. Buite hierdie liggaam gee die Heilige Gees aan niemand lewe nie.

·       Die allegoriese verklaring van die Bybel. Laasgenoemde wyse van skrifverklaring het ook tot die verwerping van Christus se letterlike, duisendjarige vrederyk op aarde gelei, asook die siening dat ons nou in die vrederyk leef waarin die duiwel gebind is (Hunt 2002:45-52).

·       Die gebruik van geweld om die kerk se gesag af te dwing. Die Anabaptiste is deur sowel die Katolieke as Protestantse kerke vervolg en tereggestel omdat albei kerke in Augustinus se leerstelling van die reddende krag van die suigelingsdoop glo (Hunt 2002:88).

Calvyn het die teregstelling van die Spaanse medikus, dr. Michael Servet, op grond van beweerde kettery nie alleen gelas nie maar daarna ook geregverdig (Hunt 2002:68-71).

Die basiese leerstellings van Calvinisme word deur die Engelse akroniem TULIP uitgedruk. Dit is:

T – Total depravity (totale verdorwenheid);

U – Unconditional election (onvoorwaardelike verkiesing);

L – Limited atonement (beperkte versoening);

I – Irresistible grace (onweerstaanbare genade); en

P – Perseverance of the saints (volharding van die heiliges).

Hierdie begrippe is vreemd aan die Bybel en word elkeen deur Dave Hunt aan 'n deeglike skriftoets onderwerp:

Totale verdorwenheid

Calvinisme se definisie van menslike verdorwenheid word aan onvermoë gelykgestel. Geen mens kan, volgens hulle, die Here aanneem om gered te word nie – daarom lei hierdie definisie noodwendig tot onvoorwaardelike verkiesing en onweerstaanbare genade. Omdat niemand deur 'n eie besluit tot bekering kan kom nie, moet God 'n aantal mense tot saligheid predestineer en hulle ook eensydig wederbaar sodat hulle hul kan bekeer. In ooreenstemming hiermee verklaar een van die Dordtse leerreëls dat geen mens sonder die wederbarende krag van die Heilige Gees gewillig of in staat is om hom tot God te bekeer nie. Calviniste glo dat die wederbarende werk van God in sy uitverkorenes se harte reeds in hulle suigelingsfase plaasvind.

Dit is egter 'n menslike opinie hierdie sonder enige skriftuurlike basis. Volgens die Bybel word alle mense oral opgeroep om hulle tot God te bekeer (Hand. 17:30). Totale verdorwenheid is dus nie 'n onvermoë om die evangelie te kan glo en tot bekering te kom nie. Alle mense het 'n vrye wil en kán op grond van die evangelieboodskap 'n besluit neem.

Die Bybel maak dit baie duidelik dat redding 'n geskenk van God is deur Jesus Christus, en dat niemand dit kan verdien of koop nie – dit moet net aanvaar word. Watter vermoë het 'n mens nodig om 'n geskenk te kan aanvaar? Niks nie! Hoe kan 'n sondaar dan ly as gevolg van 'n onvermoë om die vrye geskenk van die ewige lewe te aanvaar?

Natuurlik moet 'n mens die evangelie glo om die gawe van redding te kan ontvang. Die Bybel sê egter nêrens dat dit vir die natuurlike mens onmoontlik is nie. Die opdrag: "Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom" (Mark. 16:15) impliseer die vermoë van elke persoon om die evangelieboodskap te kan glo.

Die aanvaarding van die Calvinistiese dogma lei tot verdere skrikwekkende gevolgtrekkings. In terme hiervan kan God alle mense red as Hy wil, maar Hy weerhou redding doelbewustelik van mijoene mense en bied dit net vir sy uitverkorenes aan. Dit beteken dat Hy nie regtig liefde vir alle mense het nie, en dit is teenstrydig met die Bybel, want sy wysheid is "onpartydig" (Jak. 3:17).

Indien verlore sondaars aan só 'n onvermoë ly dat hulle alleen gered kan word deur 'n soewereine daad van wederbaring deur God, en alle mense word nie gered nie, dan volg dit dat God net sy genade aan 'n geselekteerde groepie betoon. Waarom betoon Hy hierdie genade nie ook aan die ander nie?

Hierdie saak openbaar 'n baie belangrike probleem van Calvinisme: die verloëning van God se eindelose liefde vir alle mense. Volgens hulle het God nie alle mense lief nie, omdat Hy die verdoemenis van miljoene vooraf bepaal het. Dit is inderdaad 'n ernstige wanvoorstelling van ons liefdevolle God.

Die Calviniste is ook heel onbybels in hulle voorstelling van redding voor geloof – God moet volgens hulle eers jou siel red sodat jy kan glo en tot bekering kom! Die hele Bybel is vol voorbeelde dat geloof voor redding kom, en in werklikheid 'n vereiste vir redding is. "Hy wat glo… sal gered word" (Mark. 16:16). "Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word…" (Hand. 16:31). "Uit genade is julle gered, deur die geloof" (Ef. 2:8). Die oomblik wanneer 'n persoon glo en die Here Jesus wat vir ons sondes gesterf het, as Saligmaker ontvang, word hy weergebore as 'n lid van die liggaam van Christus (Hunt 2002:93-108).

Onvoorwaardelike verkiesing

Hierdie begrip, wat die hart van Calvinisme is, kom glad nie in die Bybel voor nie. Volgens die Dordtse beginsels is dit "die onveranderlike doel van God waardeur Hy, voor die grondlegging van die wêreld, uit genade en volgens sy welgevallige wil, 'n sekere aantal mense uitverkies het om hulle deur Christus te red." Waarom so min deur ‘n liefdevolle God uitverkies is, terwyl die res sonder 'n kans tot redding verdoem word, is een van die talle onbeantwoorde vrae van Calvinisme. Calvyn kon dit ook nie bevredigend antwoord nie en het homself telkens op Augustinus beroep.

Die Calvinistiese uitverkiesingsleer sê vir die onweergebore uitverkorene: "Moenie bekommerd wees nie, jou verdorwenheid is nie 'n struikelblok vir redding nie; en vir die een wat nie uitverkies is nie: "Jammer, jy is nie vir redding verkies nie, maar vir veroordeling."

Calviniste sê dat God voorkennis van alle gebeure het omdat Hy vooraf bepaal het dat almal van hulle moet plaasvind. Volgens hulle is God nie soewerein as daar enigiets buite sy wil gebeur nie. Die mens het dus nie 'n vrye wil nie en kan nie in stryd met God se wil optree nie. Hierdie siening tas God se karakter aan en maak van Hom 'n soewereine besluitnemer wat tot die sonde, onheil en verdoemenis van miljoene mense lei.

Die hele Bybel is vol van die vrye wil van die mens, van besluite wat hy moet neem en die gevolge van sy eie besluite wat hy moet dra. Die boek Spreuke gaan net oor besluite. Die mens het die keuse om gehoorsaam of ongehoorsaam te wees, om lief te hê of nie lief te hê nie, te glo of nie te glo nie. Hy is nie 'n robot nie. 'n Mens kan net deur sy eie, vrye besluit liefhê, waarsonder daar geen liefde is nie. Hy is nie vooraf geprogrammeer om lief te hê of nie lief te hê nie.

Die Calvinisme redeneer dat God van alle ewigheid af bepaal het dat Adam en Eva van die boom van die kennis van goed en kwaad sou eet, maar dan verbied Hy hulle om van die vrugte te eet sodat Hy hulle kon straf vir dit wat Hy vooraf bepaal en veroorsaak het dat hulle sou doen! Deur onvoorwaardelike verkiesing red Hy dan sekere van hulle afstammelinge om sy genade te betoon.

Hierdie vergesogte scenario is onbybels en bring oneer aan God. Dit is teenstrydig met die karakter van 'n heilige en regverdige God wat "deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie" (Jak. 1:13). Dit is verre daarvandaan dat Hy sonde veroorsaak – Hy versoek nie eers iemand om te sondig nie. Hy toets wel mense se gehoorsaamheid aan Hom, soos toe Hy Abraham gevra het om Isak te offer. Adam en Eva is dus nie versoek of gepredestineer om die vrugte te eet nie, hoewel God geweet het dat hulle dit sou doen. Hulle het bloot 'n uitvoerbare opdrag gekry om nie van die vrugte te eet nie, omdat daar baie ander bome was om van te eet. Deur gehoorsaamheid aan hierdie opdrag sou hulle hul liefde en lojaliteit aan hulle Skepper betoon het.

Die Bybel gebruik die begrip "verkies" of "uitverkore" op verskeie maniere. Die term word gebruik vir Israel, Christus, 'n vrou, die kerk en engele. Nooit word hierdie term egter gebruik om aan te toon dat 'n sekere groep mense uitverkies is om gered te word nie. Nooit nie. H.A. Ironside (In the Heavenlies: Addresses on Ephesians) sê: "Nêrens in die Bybel word mense ooit gepredestineer om hel toe te gaan nie, en nêrens word mense bloot gepredestineer om hemel toe te gaan nie. Stel self ondersoek in en kyk… predestinasie is altyd m.b.t. 'n spesiale plek of seën."

Paulus verwys na spesiale seëninge, soos heiligmaking, wat die Here vir sy gemeente voorbestem het: "…soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil" (Ef. 1:4-5). Geen melding word van redding gemaak nie. Elkeen wat Jesus Christus in die geloof aanneem, sal aanvaar word en kan in hierdie voorafbepaalde seëninge van kindskap deel.

Calvinisme definieer uitverskiesing egter in terme van een groep mense wat hemel toe gaan en 'n ander groep wat hel toe gaan. Die evangelie kan met groot erns, dag en nag, aan laasgenoemde groep verkondig word – maar sonder enige effek omdat dit vir hulle onmoontlik is om in God te glo en sy verlossing te begeer. God het hulle oë verblind omdat hulle nie onder die uitverkorenes is, wat op grond van onvoorwaardelike verkiesing vasgestel is nie.

Johannes 3:16 sê: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê." Die woorde "wêreld" en "elkeen" moet na "uitverkorenes" verander word om hierdie teks vir die Calviniste aanvaarbaar te maak. Hier is geloof weer eens die vereiste vir redding, en nie verkiesing nie. Redding is tot almal se beskikking (Hunt 2002:189-202).

Beperkte versoening

Hierdie leerstelling beperk die versoening van Christus aan die kruis net tot die uitverkorenes, en beperk derhalwe ook die liefde van God net tot hulle. Indien dit uit die Bybel bewys kan word dat die liefde van God, wat sy Seun gestuur het om as 'n offer vir ons sonde aan die kruis te sterf, vir alle mense bedoel is en dat Christus sy lewe geoffer het met die doel om alle mense te red, dan is die sentrale beginsel van Armenianisme waar en Calvinisme vals.

Die idee om iets te beperk wat so wonderlik soos die versoening is, is inherent beledigend vir 'n God wat alle mense liefhet. Dit is Bybels misleidend om van 'n beperkte versoening te praat.

Christus het vir elke mens die dood gesmaak (Heb. 2:9). Dit beteken egter nie dat elke mens gered sal word nie, want geloof in Christus is 'n voorwaarde vir redding. Daar moet geloof wees in sy bloed wat vir ons gestort is (Rom. 3:25). God is 'n "behouder van alle mense, insonderheid van die gelowiges" (1 Tim. 4:10).

Die blaam vir die verlorenes rus op hulleself. Daar is vir almal van hulle voorsiening gemaak, maar hulle het dit nie in die geloof aangeneem nie. Die Calvinis, Edwin Palmer (The Five Points of Calvinism) het egter geen probleme om die blaam op God te plaas nie: "Omdat God net sekere mense liefgehad het en nie almal nie, en omdat Hy soewerein en onveranderlik besluit het dat net hierdie mense gered sal word, het Hy sy Seun gestuur om vir hulle te sterf en hulle te red, en nie vir die hele wêreld se sonde te sterf nie." Die rede waarom alle mense nie gered word nie, sê die Calviniste, is omdat die Here miljoene mense vir die ewige dood voorbestem het.

Volgens die Bybel, egter, is die rede waarom alle mense nie gered word nie, die feit dat hulle self nie gered wíl word nie en verkies om in rebellie teenoor God voort te leef deur te weier om in Christus te glo. Redding is egter tot alle sondaars se beskikking: "Ons almal het gedwaal soos skape… maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom" (Jes. 53:6). Almal het gesondig, maar aan almal wat glo, word vergifnis en redding gebied (Rom. 3:22-23). Christus is "die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem" (Joh. 1:29). Hy het vir die goddeloses gesterwe (Rom. 5:6). God "wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom" (1 Tim. 2:4). "Die Here… wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom" (2 Pet. 3:9).

Is dit net die uitverkorenes wat dwaal soos skape? Is net die uitverkorenes goddelose sondaars? Beslis nie! Net so seker as wat alle mense sondaars is, net so seker is redding deur genade beskikbaar vir almal wat in die Here Jesus glo. Hy is gestuur om die Redder van die wêreld te wees, en sy dood is 'n versoening vir almal wat glo. "Jesus Christus… is 'n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s'n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld" (1 Joh. 2:1-2).

Een van die argumente wat dikwels aangevoer word om die leer van beperkte versoening te bewys, is dat God na bewering sommige mense se harte verhard het sodat hulle nie gered kan word nie. Een van die voorbeelde wat genoem word, is dié van Farao. God het Farao nie beïnvloed om te sondig nie, en Hy doen dit met niemand nie. Farao het self sy hart in rebellie teen die Here en sy volk verhard, en God het dit net gebruik om hom en die ander afgodedienaars in Egipte te straf. God het vooraf geweet hoe hierdie tiran gaan optree en het besluit om hom in sy plan te gebruik. God het Farao se hart dus verhard deurdat Hy hom gehelp het om te doen wat hy in elk geval al self besluit het om te doen.

Daar is slegs een Bybelse verduideliking waarom God sommige mense hemel toe neem en ander hel toe stuur. Redding is 'n eerlike aanbod sodat mense self kan besluit om Christus te aanvaar of te verwerp, en God in sy alwyse voorkennis weet hoe elke mens gaan reageer. Die enigste rede, in ooreenstemming met God se karakter, vir die verkiesing en predestinasie van die verlostes om sekere seëninge te ontvang, is sy voorkennis oor wie gered sal word (Hunt 2002:237-282).

Onweerstaanbare genade

Hierdie leerstelling kom ook van Augustinus af. Hoewel hy aanvanklik die vrye wil van die mens verkondig het, asook God se begeerte om alle mense te red, het Augustinus later van standpunt verander. Geloof het vir hom iets geword wat God onweerstaanbaar in die uitverkorenes se harte uitstort sonder dat hulle enigiets glo, enige besluit geneem het of daarvan bewus is dat hulle weergebore is. Volgens hierdie redenasie is mense van nature só dood in hulle sonde dat hulle nie eers die evangelie kan hoor, en nog minder op Christus se pleitende stem kan reageer nie.

Onweerstaanbare genade is volgens die Calvinistiese siening nodig, ten spyte van die Here se roepstem aan almal: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee" (Matt. 11:28). "As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink" (Joh. 7:37). Almal, selfs dié wat geestelik dood is, kan hierdie roepstem van die Here duidelik hoor. Indien genade onweerstaanbaar was, is dit volgens Dave Breese (The Five Points of Calvinism) nie duidelik waarom die evangelie hoegenaamd verkondig hoef te word nie.

Om hierdie vierde punt van Calvinisme in sy konteks te verstaan, moet dit teen die agtergrond van die vorige drie punte beoordeel word. Weens die totale verdorwenheid van die mens word diegene wat God onvoorwaardelik verkies het, en vir wie alleen Christus 'n beperkte versoening gedoen het, sonder geloof deur middel van onweerstaanbare genade gewederbaar. Niemand kan God se reddende genade weerstaan nie, omdat dit op grond van 'n soewereine besluit van Hom oor die uitverkorenes uitgestort word. Piper (TULIP: What we Believe About the Five Points of Calvinism) sê: "Daar kan geen redding sonder die realiteit van onweerstaanbare genade wees nie. Omdat ons dood is in ons sonde, sonder enige vermoë om onsself aan God te onderwerp, sal ons nooit in Christus kan glo voordat God ons rebellie oorkom het nie."

Indien hierdie stelling waar is, tas dit ook die karakter van God aan. Hy kon onweerstaanbare genade op Adam en Eva uitgestort en sodoende die hele mensdom die lyding gespaar het wat uit hulle rebellie teen Hom voortgevloei het. Waarom het Hy dit nie gedoen nie? Watse liefde is dit?

Ons word in werklikheid gevra om te glo dat God nie vir die hele wêreld (soos die Bybel sê) liefde en barmhartigheid het nie, maar net vir 'n beperkte aantal mense. God het besluit om hulle onweerstaanbaar te red deur sy genade op hulle af te dwing, terwyl Hy die res van die mensdom vir ewige foltering in die hel voorbestem het. Só 'n leerstelling is afstootlik vir enigeen wat 'n sin vir etiek en meegevoel het, en beswadder die Naam van die God van die Bybel wat "vir almal goed [is], en sy barmhartigheid is oor al sy werke" (Ps. 145:9).

Indien God, soos die Bybel sê, waarlik alle mense liefhet en hulle die mag gegee het om te besluit en op sy liefde te reageer, dan is al die verlorenes vir hulle eie ondergang verantwoordelik deurdat hulle bewustelik die redding verontagsaam het wat 'n liefdevolle God deur Jesus Christus aan hulle bied. Indien hierdie mense egter totaal verdorwe geskape is, daarna beweeg word om te sondig, en dan nog van die genade vir redding weerhou word, soos wat die Calviniste beweer, hoe kan hulle regverdiglik vir hulle sondige toestand verantwoordelik gehou word?

Die God van Calvinisme het dit nie vir alle mense moontlik gemaak om Hom te soek en die evangelie te glo nie. Die enigste hoop is in God self, in sy liefde en genade, maar dit het hierdie God behaag om sy liefde tot 'n relatief klein groep te beperk, terwyl Hy die res veroordeel sodat Hy sy soewereiniteit en regverdigheid kan bewys. Dit is die onderliggende tema van totale verdorwenheid, onvoorwaardelike verkiesing en beperkte versoening. Onweerstaanbare genade is die volgende logiese ontplooiing in TULIP – die God wat behae daarin het om te veroordeel, word weer eens voorgestel (Hunt 2002:285-307).

Volharding van die heiliges

In die vyfde punt van Calvinisme word ewige saligheid aan gelowiges beloof op 'n manier wat dikwels tot twyfel en onsekerheid lei. Hoewel Christus beveel het dat die evangelie aan die hele wêreld verkondig moet word, glo Calviniste dat net die uitverkorenes daarop sal reageer. Die ander mag dink dat hulle die evangelie glo, maar as hulle nie soewerein deur God verkies en gewederbaar is nie, het hulle nie die geloof om in Christus te glo nie. Die vraag is: hoe kan 'n mens seker daarvan wees dat jy werklik onder die uitverkorenes is? Sommige Calviniste beantwoord hierdie vraag deur te sê dat 'n waarlik geredde persoon se geloof deur die werking van God tot die einde toe sal stand hou. Ander sê weer dat 'n gelowige moet aanhou om vrug te dra tot die einde toe.

Calvyn het in sy Institusies gesê dat 'n persoon se geboorte in 'n Christelike gesin, asook die kinderdoop, outomaties van hom 'n Christen maak. Hy het selfs gesê dat sy eie kinderdoop in die Rooms-Katolieke Kerk van hom 'n uitverkorene gemaak het! Volgens hom moet 'n persoon net aanhou om geloof in sy doop te stel. Hy is as 'n baba gewederbaar op grond van 'n raadsbesluit van God. Die Here skenk dus sonder 'n keuse aan die uitverkore persoon se kant, geloof aan hom en sal dit ook in stand hou.

Indien Calvyn verkeerd was oor die suigelingsdoop – en daar is geen twyfel dat hy, soos Luther, verkeerd was nie – dan is die res van sy leerstelling waarskynlik ewe vals. Waarom moet 'n mens dan die TULIP-leerstelling glo? Die vraag wat baie Calviniste teister, is of hulle werklik onder die uitverkorenes tel en op grond daarvan 'n ware geloof het. Hoe moet jy weet dat jy dalk nie 'n valse geloof het nie? Calvyn het gesê dat God aan sekere (nie-uitverkore) mense 'n valse geloof gee, en dit laat baie van sy volgelinge aan hulle eie geestelike stand twyfel.

Charles Hodge (A Commentary on Romans) het gesê: "Die enigste bewys van ons verkiesing en volharding is om nougeset met goeie werke voort te gaan." John McArthur (The Gospel According to Jesus) sluit hierby aan: "Diegene met 'n ware geloof sal bewys van hulle redding lewer deur tot aan die einde geregtigheid te beoefen." Joseph Dillow (The Reign of the Servant Kings: A Study of Eternal Security and the Final Significance of Man) kritiseer McArthur egter deur vele aanhalings uit Calvyn. Hy sê: "Reddende genade in Calvyn en in die Nuwe Testament is iets wat passief in jou gedagtes gevestig is." Dit is dus onafhanklik van werke (Hunt 2002:377-414).

Daar is eenpunt-Calviniste wat net in Calvyn se stelling oor ewige saligheid (eenmaal-gered-altyd-gered) glo. By nadere ondersoek blyk dit egter dat Calvyn nie sy leer suiwer en alleen op geloof in die Here Jesus stel wat aan ons die ewige lewe gee nie, maar op uitverkiesing, kerklike ritualisering (doopsaligheid) en goeie werke.

Die teologie van Arminius

Calvinisme word dikwels teenoor Arminianisme gestel, na aanleiding van die leer van Jakob Arminius (1560-1609). Hierdie Nederlandse teoloog het as 'n Calvinis begin en selfs in 'n Calvinistiese seminarium in Genève gestudeer. Ná 'n deeglike studie van die Bybel het hy die leer van Calvyn verwerp. Hy was 'n ernstige navolger van Christus, maar is op grond van sy verwerping van Calvinisme van elke denkbare dwaling beskuldig. Dieselfde beskuldigings word vandag nog teen mense gemaak wat hulle van Calvyn distansieer.

Arminius het die valse leerstellings van Augustinus geheel en al verwerp. Hy het 'n suiwer evangelie verkondig wat op geloof in Jesus Christus alleen gebaseer is. Die versoening aan die kruis is vir almal. Diegene wat hemel toe gaan, sal daar wees omdat hulle die evangelie geglo het en nie omdat hulle bo ander mense tot saligheid uitverkies is nie. Almal wat teen God rebelleer deur te weier om die evangelie te aanvaar, is vir ewig verlore omdat hulle deur hul eie toedoen onder die oordeel van God kom.

Daar is soveel positiewe historiese verslae oor Arminius se godvrugtige lewe en die suiwerheid van sy evangeliese leerstelling, dat dit onverklaarbaar is waarom die Calviniste so erg teen hom te velde trek. Dit kan net wees omdat hy die valshede in hulle leer uitgewys het, en nie oor enige grondige aanklag teen sy karakter en geseënde prediking nie. Dit was egter ‘n kenmerk van Calvyn en baie van sy volgelinge dat hulle andersdenkendes tot die dood toe vervolg het.

Ná Arminius se dood het 46 Arminiaanse predikante in Januarie 1610 in Gouda, Nederland, byeengekom om 'n protesskrif teen Calvinisme op te stel waarin aangedui is dat die leerstellings daarvan nie in die Bybel voorkom nie. In wat later as die vyf punte van Arminianisme bekend gestaan het, het hulle gesê:

1.       God het van alle ewigheid af besluit om almal te red wat in Jesus Christus glo, en al die onbekeerlikes en ongelowiges in sy toorn in te sluit.

2.       Christus het gesterwe om vergifnis en verlossing vir almal se sondes te verkry, maar hierdie voordele word slegs toegereken aan dié wat in Christus glo.

3.       ‘n Mens kan niks bedink of doen wat waarlik goed is nie, en móét weergebore word.

4.       God se genade is absoluut noodsaaklik vir redding, maar dit kan deur mense weerstaan word.

5.       Diegene wat deur geloof in Christus gered is, word deur die Heilige Gees bekragtig om sonde te weerstaan. Of hulle egter uit die genade kan verval, moet eers in die Bybel vasgestel word voordat ons dit met oortuiging kan verkondig.

Die Calviniste het ‘n paar maande later hierop geantwoord deur sewe stellings te maak. Die tweede en derde punte is onder die opskrif “Onvoorwaardelike verkiesing” saamgevoeg, en die sesde en sewende punte onder “Volharding van die heiliges.” Die resultaat hiervan staan as die vyf punte van Calvinisme bekend (Hunt 2002:75-81).

Slotwoord

Dave Hunt sluit sy boek só af:

“My hart is gebroke oor Calvinisme se wanvoorstelling van die God van die Bybel wat ek liefhet, en ook oor die verskoning wat hierdie teologie aan ateïste bied om nie in God te glo nie. My eerlike en opregte begeerte met die skryf van hierdie boek is om God se karakter te verdedig teen die lastering wat sy liefde vir alle mense verloën, en wat beweer dat Hy nie redding tot almal se beskikking stel nie omdat Hy nie almal wil red nie. Dit is my gebed dat lesers sal begryp dat Christelike skrywers en leiers uit antieke of moderne tye, ongeag hoe hoog hulle gerespekteer word, almal feilbaar is en dat die Bybel ons enigste gesag is. “God se Woord verklaar dat die evangelie, wat die “krag van God tot redding is vir elkeen wat glo (Rom. 1:16), die “goeie tyding van groot blydskap” is, nie net vir sekere uitverkorenes nie, maar vir alle mense (Luk. 2:10). Die aanspraak dat slegs ‘n geselekteerde groep tot redding uitverkies is, is nie ‘n goeie tyding van groot blydskap vir alle mense nie! Hoe kan só ‘n leerstelling Bybels wees? “Dit is my gebed dat Calvinistiese lesers wat tot hier toe gevorder het, ten volle daarvan oortuig sal wees om nie langer ‘n wanvoorstelling van die God van liefde te maak, as sou Hy miljoene mense tot die ewige verdoemenis gepredestineer het deur die geleentheid om die evangelie te kan verstaan en glo, van hulle te weerhou nie. Ons weet nie eers hoeveel ongelowiges vir God verwerp het as gevolg van hierdie veragtelike verdraaiing van sy Woord nie. Mag dié onbybelse verskoning van nou af aan almal ontsê word! Mag die gelowiges, met die vaste wete dat die evangelie inderdaad die goeie tyding vir alle mense is, God se goeie nuus na die hele wêreld uitdra” (Hunt 2002:414).

Aanbevelings

Voordat hierdie boek in April 2002 gepubliseer is, is inspeksiekopieë aan verskeie Christenleiers vir kommentaar gestuur. Hoewel sekere geharde Calviniste beswaar teen die boek gemaak het (meesal nie goed gesubstansieer nie) was die oorweldigende reaksie een van dankbaarheid oor hierdie moedige openbaring van die dwalings van Calvinisme. Baie van die positiewe reaksies word weerspieël in dit wat Tim LaHaye oor die boek geskryf het. Hy is mede-outeur van die bekende reeks boeke oor die mense wat ná die wegraping sal agterbly en hulle onder die skrikbewind van die Antichris sal bevind:

“Om te impliseer dat die barmhartige, lankmoedige, genadige en liefdevolle God van die Bybel só ‘n verskriklike leerstelling soos Calvinisme sou bedink, wat ons wil laat glo dat dit ‘n daad van genade is om slegs sekere mense vir die hemel te verkies en, deur uitsluiting, ander vir die hel, kom bitter naby aan godslastering. Ek wil Dave Hunt gelukwens omdat hy hierdie uitstekende verklaring van ‘n leerstelling geskryf het wat sy wortels meer in die Griekse humanisme as in die Bybel het. Hierdie kan dalk die belangrikste boek wees wat in die 21ste eeu vir alle evangeliese Christene geskryf is om te lees. Dit sal u help om die ware God van die Bybel te ken en lief te hê. Hy het van Homself gesê: “Ek wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” Calvinisme is ver verwyderd van die God van die Bybel wat die mensdom so liefhet dat Hy sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat om genade in die Naam van sy verrese Seun, Jesus Christus, uitroep, gered kan word. Elke evangeliese prediker behoort hierdie boek te lees. Indien hulle dit doen, sal ons ‘n groot herlewing in ywer vir siele-wenning sien. Dit sal die wêreld omkeer as miljoene mense aan die ware God van die Bybel voorgestel word – nie aan die valse God van Augustinus en Calvyn nie.”

Bron

Hunt, Dave 2002 : What Love is This? Calvinism’s Misrepresentation of God. Sisters, Oregon: Loyal Publishing, Inc.

Watchman Nee 88