Print

Bekering nie Meer Nodig in NG Kerk nie

Written by Prof Johan Malan.

opsomming: Op die NG Kerk se Algemene Sinode van 2002 is besluit dat bekering en geloof nie meer nodig is om gered te word nie. Bekering en geloof is egter Bybelse opdragte.

Die verval na ‘n dooie vormgodsdiens tree geleidelik en soms ongemerk in. Die Bybelse opdrag dat sondaars hulle deur sondebelydenis tot die Here moet bekeer, terwyl hulle geloof in Jesus Christus as hul persoonlike Verlosser stel, word deur die kerklike toepassing van ‘n verbondsteologie vervang. Daar word op ‘n hiper-Calvinistiese wyse geredeneer dat aangesien alle kinders van die Here vooraf deur Hom uitverkies is, Hy hulle op eie inisiatief sal red. Deur die beoefening van sakramente bevestig die kerk ‘n lidmaat se uitverkore posisie en matig homself sodoende die reg aan dat niemand sonder sy toedoen hemel toe kan gaan nie. Dit is egter ‘n kerklike saligheidsleer en nie ‘n Bybelse een nie.

Wanneer die sakrament uitgevoer is, word die persoon se ewige en onveranderlike status as ‘n kind van God bevestig. Dit word as verkeerd en onnodig beskou om só ‘n verbondskind later tot bekering en geloof in die Here Jesus op te roep. Die Here aanvaar volgens dié siening finale verantwoordelikheid vir die verlossing van ‘n persoon en het nie mense se werke as ‘n vorm van aanvulling tot sy genadewerk nodig nie. Die mens is dus (soos wat Calvyn en Augustinus inderdaad geleer het) net ‘n passiewe ontvanger van genade. In die lig hiervan word dit as onvanpas beskou om mense te vra om ná ‘n diens agter te bly en hulle saak met die Here reg te maak deur sekere stappe van bekering te neem.

NG Kerk se siening

Die NG Kerk is ook hierdie vormgodsdienstige siening toegedaan. Hoewel daar ‘n aantal evangeliese NG leraars is wat nie as hiper-Calviniste beskryf kan word nie, is hulle baie ver in die minderheid. Op die NG Kerk se algemene sinode van 2002 het die afgevaardigdes weer hierdie saak gedebatteer en uitdruklik die sogenaamde “menslike werke” van bekering en geloof verwerp. Die volgende is ‘n aanhaling uit “Beeld” van 16 Oktober 2002 (bl. 8):

“Algemene kerktaal soos dat iemand hom moet bekeer om gered te word, of haar hart vir Jesus moet gee, kan ‘n ernstige dwaling bevat. Die algemene sinode het ‘n verslag aanvaar wat waarsku teen taal wat die indruk kan wek dat ‘n mens self bydra tot sy of haar redding. Die suiwer leer is dat die redding alleen uit God se genade gebeur. Ander frases wat ‘n dwaling kan bevat, is die ‘weg van saligheid’ wat impliseer dat ‘n mens sekere stappe moet doen om gered te word, en selfs die siening dat ‘jy moet glo’ om gered te word.”

Hierdie besluit vloei voort uit ‘n duidelike standpunt dat bekering en geloof as menslike dade onnodig en dus ongewens is omdat redding op grond van God se genade self sal “gebeur.” Dit is ‘n lewensgevaarlike dwaling wat aan ‘n skriftoets onderwerp moet word om die valsheid daarvan te ontmasker, omdat duisende mense in ons land daardeur mislei word.

Of die Bybel se eie stellings oor bekering, sondebelydenis en geloof deur NG teoloë en leraars aanvaar sal word, is egter ‘n ope vraag. Op dieselfde sinodesitting het hulle ook ‘n middeweg oor die gesag van die Bybel ingeneem. Hulle verwerp die siening van teoloë soos prof. Sakkie Spangenberg van Unisa dat die Bybel slegs feilbare mense se woorde óór God is, maar hulle verwerp ook die teenoorgestelde siening van fundamentaliste dat die Bybel die foutlose en geïnspireerde Woord van God is. Vir hulle is dit dus ‘n mengsel tussen “woorde van God” en die “woorde van mense.” Prof. Philip Theron van Stellenbosch het dit op die sinode só verduidelik:

“Oor die menslike kant van die Bybel het Theron gesê dat die Bybel soos ‘n ou grammofoonplaat is  – jy hoor die groot Caruso sing, maar ook die krappe op die plaat. Net so hoor ‘n mens in die Bybel God se stem én mense s’n” (Beeld, 16.10.2002, bl. 8).

Wanneer beginsellose en afgewaterde sienings van hierdie aard gehuldig word, kan ‘n mens jou nie meer streng op die Bybel beroep nie omdat die gesag daarvan bloot nie meer in alle opsigte deur jou teëparty aanvaar word nie. Binne hierdie pragmatiese benadering in die moderne teologie word daar dikwels geredeneer dat ‘n sekere stelling net deur ‘n bepaalde Bybelskrywer gehuldig word, of dalk net vir ‘n sekere tyd of op ‘n sekere groep mense van toepassing was. Sodoende word daar van “sosiaal onaanvaarbare” Bybelse uitsprake teen sondes soos homoseksualisme en die gebruik van alkoholiese drank ontslae geraak, asook van die herhaalde oproepe tot bekering aan alle sondaars.

Bybelse stellings oor bekering en geloof

Vir evangeliese Christene wat in die Bybel glo, is daar duidelike riglyne oor die mens se verantwoordelikheid in sy redding. Hy is nie ‘n robot wat eensydig deur die Here geprogrammeer en gemanipuleer word nie, maar ‘n denkende wese met ‘n vrye wil. Wat sy redding betref, word hy voor ‘n keuse gestel en moet dus self ook ‘n besluit daaroor neem. Die groot fout wat Calvyn gemaak het, is dat die Here glo net sekere mense liefhet, naamlik dié wat Hy uitverkies het. Christus het net vir hulle gesterf, en hulle kan hulself ook nie van enige sondes bekeer voordat die Here hulle harte gewederbaar het nie. Bekering is dus nie ‘n stap wat tot redding lei nie, maar ‘n reaksie van die “gelowige” wat reeds lank gelede tydens sy doop deur die Here gered is. Hierdie voortgesette proses van bekering in sy lewe word nie in ‘n baie ernstige lig beskou nie, omdat sy geestelike bestemming op grond van ‘n persepsie van “eenmaal gered altyd gered” gewaarborg word. Selfs al val hy in die gruwelikste sondes terug, word hy net as ‘n “ongehoorsame kind van die Here” beskou wat steeds op pad hemel toe is. Om hierdie rede is daar ‘n groot verdraagsaamheid teenoor sondes in lidmate se lewens.

Wat sê die Bybel oor bekering?

In Handelinge 17:30 sê Paulus: “God… verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.” Hierdie opdrag om handelend op te tree met betrekking tot jou redding – om ‘n stap te neem waarin jy jou sondes bely en jou hart vir die Here gee – het ‘n universele strekking vir alle mense op alle plekke ná die koms van Jesus. Dit is in die lig hiervan dat Paulus sy goddelike mandaat vir sy hele bediening beskryf. Die Here Jesus het aan hom gesê: “Ek stuur jou na die heidene om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:17-18).

Dit is presies wat die heidene gedoen het, oral waar Paulus die evangelie verkondig het. Teenoor die Christene in Thessalonika getuig hy: “…hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien” (1 Thess. 1:9). In sy brief aan die Romeine spreek hy alle sondaars aan wat hulleself teen die evangelie van Jesus Christus verhard: “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God  jou tot bekering wil lei nie?” (Rom. 2:4). Vir die Hebreërs sê hy dat daar in ‘n mens se lewe eers “die fondament van die bekering uit dooie werke en van geloof in God” gelê moet word (Heb. 6:1).

Bekering en geloof is dus beide in ‘n persoon se redding ter sprake. Bekering vind vóór jou redding plaas, in ‘n gesindheid van berou oor jou sonde, dan word jy gered. Paulus sê vir die Korinthiërs dat ‘n God-gewerkte droefheid oor sonde, ‘n bekering tot redding in die hand werk (2 Kor. 7:10). Dit is ook die boodskap van die Here Jesus self. Die Nuwe Testament bevestig onomwonde:

·       dat Jesus nie gekom het om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering (Luk. 5:23);

·       dat Hy gekom het om te soek en te red wat verlore was (Luk. 19:10);

·       dat mense sal omkom as hulle hul nie bekeer nie (Luk. 13:3, 5);

·       dat Jesus bekering as ‘n vereiste tot die vergewing van sondes gestel het (Mark. 4:12);

·       dat daar in die hemel blydskap is “oor een sondaar wat hom bekeer” (Luk. 15:7);

·       dat selfs heidense stede hulle in sak en as sou bekeer indien die werke van God aan hulle geopenbaar was (Luk. 10:13).

·       Dat Jesus gekom het om mense van hulle sondes te verlos (Matt. 1:21).

Jakobus het dieselfde opdrag van bekering verkondig as deel van die boodskap van geloof in Christus en die vergifnis van sondes uit genade (Jak. 5:19-20). Volgens Petrus is God lankmoedig oor mense “en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). Hy het dus nie net ‘n sekere groep tot redding uitverkies en die res almal tot die ewige poel van vuur voorbestem nie. Elkeen moet self besluit of hy hom tot die Here wil bekeer of nie.

Bekering behels ‘n belydenis van ons sonde en ongeregtigheid, sodat ons gereinig kan word deur die bloed van die Lam. Jesus het die owerspelige vrou se sonde uit genade vergewe en vir haar gesê: “Gaan heen en sondig nie meer nie” (Joh. 8:11). Mense wat nie tot bekering kom en hulle sonde bely nie, sal in hulle sonde sterwe (Joh. 8:21). Dit is waarom die Heilige Gees die hele wêreld (dit sluit ons ook in!) van hulle sonde oortuig, asook van die geregtigheid van God in Christus Jesus (Joh. 16:8). Hoe kan ons ooit die geregtigheid van die Here Jesus deelagtig word as ons nie onsself in sondebelydenis tot Hom bekeer nie? “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:9). Die Here rig hierdie boodskap tot sondaars in die hele wêreld. Glo jy dit, en het jy al in die geloof daarop gereageer?

Tydens die Here Jesus se aardse bediening het die meeste mense die idee verwerp om dissipels van Hom te word, omdat hulle die duisternis liewer gehad het as die lig (Joh. 3:19). Die sonde was té lekker vir hulle. Dit is ook die tendens tydens die hele kerkbedeling, dat die bewandelaars van die smal weg vér in die minderheid is. Die Here Jesus het gesê: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Luk. 13:24).

Wie is hierdie “baie” mense wat hard probeer om in te gaan, maar wat nie daarin slaag nie? Dit is mense wat in die Here en in die Bybel glo, en wat ook kerk toe gaan en volgens eie oortuiging hulle bes probeer om goeie Christene te wees. Hulle slaag egter nie daarin om werklik deelgenote van die koninkryk van God te word nie, omdat hulle die fondament van bekering en van ‘n saligmakende geloof in God (Heb. 6:1) verwerp het. Die fondament van hulle lewe is nie ‘n ware bekering wat tot wedergeboorte gelei het nie, maar hulle doopseël, kerklidmaatskapsertifikaat, ampsbediening in die kerk en ‘n “goeie lewe.” Al hierdie kerklike aktiwiteite sonder ‘n grondige bekering is egter tevergeefs omdat dit nie tot wedergeboorte lei nie (Joh. 3:3).

Die ware kerk van Christus móét op die fondament van bekering gebou word. Paulus sê: “Niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.” Wanneer ons onsself tot Hom bekeer, word ons lewens ook op dié fondament gebou (1 Pet. 2:4-6). In die lig van die NG Kerk se verwerping van bekering as ‘n futiele menslike werk, moet die vraag gevra word watter werke die plek daarvan inneem – die insameling van geld, diens op die kerkraad, uitstappies, die bak van pannekoek en koeksisters, of wat ook al.

Alles wat nie die vrug van die Heilige Gees in jou lewe is nie, is tevergeefse pogings. Die Heilige Gees se eerste werk in jou lewe is om jou van jou sonde en verlorenheid te oortuig en jou tot bekering na die Here Jesus op te roep; daarom oortuig Hy jou ook van Christus se geregtigheid aan die kruis waar Hy die straf vir jou sonde betaal het. Die Gees oortuig jou egter ook van die oordele van God wat rus op almal wat hulle nie met berou oor hulle sondes tot God bekeer het nie.

Daar gaan eendag baie vormgodsdienstige lidmate én predikante wees wat tevergeefs gaan probeer om hulle dooie, sakramentele godsdiens voor die Here se troon te regverdig. Hulle sal argumente soos die volgende opper: “Here, U kan my nie verwerp nie, want ek was ‘n predikant wat in u Naam gepreek het” (Matt. 7:22). Ander sal sê: “Here, ek is gedoop en aangeneem en het jare lank op die kerkraad gedien.” Vir sulke mense wat geen getuienis van bekering het nie en hulle nou op ander werke vir saligheid beroep, sal die Here Jesus sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:23).

Die werke van ongeregtigheid word deur almal gedoen wat Jesus Christus se Godheid verloën, sy genadewerk aan die kruis, asook sy voorwaarde van bekering, sondebelydenis en geloof in Hom om sy genadewerk deelagtig te kan word. Wanneer die kerk hierdie boodskap begin verswyg en vir mense openlik sê dat hulle nie meer tot bekering hoef te kom nie, dan het hulle net ‘n gedaante van godsaligheid omdat hulle die wederbarende krag van die Heilige Gees wat op bekering volg, verloën het (2 Tim. 3:5). Paulus sê vir Timotheus dat hy hom van sulke groepe naamgelowiges moet onttrek. Dieselfde reël geld ook vir ons.

Volgens die Here Jesus moet ons nie net vir Hom met die lippe sê: “Here, Here!” nie, maar die wil van sy Vader doen (Matt. 7:21) Dit behels bekering (2 Pet. 3:9) én heiligmaking (1 Thess. 4:3, 7-8).