Print

Verval in Gereformeerde Kerke

Written by Prof Johan Malan.

opsomming: Geestelike verval in etlike van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika neem die vorm van die verwerping van vyf Bybelse leerstellings aan.

“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels" (2 Tim. 4:3-4).

Ons leef in die tyd van die groot afval. Die Bybel verwys na morele én geestelike [of leerstellige] verval wat in die eindtyd geweldig sal toeneem. In 1 Tim. 4:1 sê die Heilige Gees dat mense in die laaste tye van die geloof afvallig sal raak en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang. Dit behels verval uit Christelike oortuigings na duiwelse dwaalleringe. In die Nuwe Testament word net na Christene as gelowiges verwys, omdat al die afgodedienaars as ongelowiges beskryf word in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het. Die Bybel erken dus nie ‘n intergeloofsbeweging nie omdat daar net een ware geloof is.

Om van die geloof afvallig te raak, impliseer ‘n reeds vervalle situasie. Dit verwys na mense wat die Here net met hulle lippe bely, maar hulle harte is ver van Hom af (Matt. 15:8). Hulle huldig dus met die mond en verstand ‘n Christelike geloofsbelydenis, maar hulle harte is onweergebore. Dit is hulle wat maklik deur die Bose verlei kan word om duiwelse leerstellings aan te hang, soos bv. dat Jesus nie God is nie, dat die Bybel nie God se Woord is nie, dat daar nie ‘n duiwel of ‘n hel is nie, dat die doop jou red, dat jy vreemde manifestasies moet ervaar, dat jy deur ander gelowe ook salig kan word, ens.

Teoloë wat in hierdie drogredes glo en ook predikante in terme daarvan oriënteer en oplei, dra grootliks daartoe by dat geestelike standaarde in die gemeenskap drasties daal. Ongeredde en vleeslike mense hou baie daarvan as predikante hulle salig verklaar sonder dat hulle hul sondes hoef te versaak. Dit is van hulle wat ons in 2 Timótheus 4 lees: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” Hulle wíl fabels en leuens hoor, bv. dat daar nie regtig verlossing van sonde is nie, dat mense maar met die sonde in hulle lewe moet vrede maak, en dat almal wat gedoop en aangeneem is, uitverkore is en hemel toe gaan. Hierdie oppervlakkige, misleidende en kompromiemakende prediking is soos die saad wat tussen die dorings en distels en op vlak grond gesaai is. Dit is onveroordelend, sosiaal aanvaarbaar onder sondaars en geniet ‘n groot aanhang.

Wat huidiglik in Suid-Afrika, in sy regering, aan sy universiteite en in baie van sy kerke gebeur, is deel van ‘n wêreldwye aanslag op Christelike leerstellings. Die uitfasering van ‘n geloofsbelydenis in die Drie-enige God van die Bybel, asook ‘n evangeliese verlossingsleer, is ‘n voorvereiste vir die infasering van die gelykmakende, multigodsdienstige dogma van die antichristelike nuwe wêreldorde. Dit is die rede waarom die Here Jesus godsdienstige desepsie bo aan sy lys van tekens van die tye geplaas het toe die dissipels Hom gevra het: “Wat is die teken van u koms?” Hy het vir hulle gesê: “Pas op dat niemand julle mislei nie… baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei… en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:3-4, 11, 21). Valse leringe word inderdaad wêreldwyd verkondig.

Terwyl hierdie ernstige aanslag teen die koninkryk van God in omvang en momentum begin toeneem, sou mens kon hoop dat daar tóg nog ‘n beduidende aantal evangeliese Christelike kerke is waarin daar sterk standpunt vir die waarheid van God se Woord ingeneem word. Die teendeel is egter waar. In die meeste kerke is leerstellige dwalings, morele verval en ekumeniese kompromie aan die orde van die dag. Kerke word lou en afvallig en dwing die Here Jesus om Homself van hulle te distansieer. Soos vir die gemeente in Laodicéa, sê Hy aan hulle: “Omdat jy lou geword het, sal Ek jou uit my mond spuug” (Op. 3:16).

Die lou predikers en gemeentelede is ‘n beskrywing van kompromiemakers. Hulle is nie koud of warm nie – hulle verwerp nie die Christendom nie, maar verkondig en leef dit ook nie meer op ‘n Bybelse standaard uit nie. Die meeste mense hou van hierdie kompromie en lae standaarde, maar vir die Here is dit totaal onaanvaarbaar. Daar is ‘n menigte leraars wat tot ‘n lou en afvallige mensdom se beskikking is om hulle in hulle dwalinge te sterk en in allerlei onbybelse fabels, of mites, te laat glo. Petrus waarsku teen die leuenpredikers wat valse leerstellings invoer. Hy sê:

“Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2).

Is dit nie skokkend nie? Baie mense sal hierdie valse leraars se verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid (die eis van wedergeboorte en heiligmaking) gelaster word! Hierdie leuenaars sal die populêre predikers wees, en hulle sal dat hulle besigheid maak om aan die evangeliese kerke wat nog die waarheid verkondig, ‘n slegte naam te gee.

Waar kom hierdie menigte valse leraars vandaan, wat die leiding neem om die gesonde leer van die Bybel af te takel? Sommige van hulle skroom nie eers om die Godheid en versoeningswerk van die Here Jesus te verloën nie. Hulle moet tog in kweekskole met ewe lae standaarde opgelei word. Van daar af dring hulle kerke binne en takel geleidelik erkende Christelike leerstellings af. As daar nie teen hulle weerstand gebied word nie, doen hulle groot verwoestingswerk namate hulle getalle vermeerder en hulle uiteindelik die oorhand in sinodes verkry. Dit is ‘n geval van ‘n bietjie suurdeeg wat die hele deeg suur maak.

In verskeie van die groot teologiese fakulteite in die wêreld, insluitende etlikes in Suid-Afrika, is daar in die tydperk ná Wêreldoorlog II, naastenby sedert die stigting van die Wêreldraad van Kerke in 1948, grootskaalse teologiese verval in Protestantse kringe aan die gang, tot só ‘n mate dat daar nou al met reg van vervalle Protestantisme gepraat kan word. ‘n Mens kan egter nie veralgemeen nie, en sal elke teologiese fakulteit, kweekskool en denominasie afsonderlik in die lig van God se Woord moet beoordeel. Ons het ‘n opdrag om ons van die vormgodsdienstiges te onttrek (2 Tim. 3:5).

Hoewel die pad van geestelike verval nie altyd dieselfde is nie, is die eindresultaat baie ooreenstemmend deurdat dit die weg vir verdere dwalings open, asook vir ekumeniese bande tussen al die dwalendes. Hulle gemeenskaplike vyand is die waarheid, wat weens sy unieke aard nie kompromie kán maak nie.

‘n Ondersoek na die verval wat die afgelope halfeeu in gereformeerde kerke in Suid-Afrika plaasgevind het, dui daarop dat vyf Christelike leerstellings teikens in die vervalproses is. Sommige daarvan is reeds verwerp, terwyl die res teologies omstrede is en tans ernstig gedebatteer en bevraagteken word. Afhangende van die mate van weerstand wat daar nog is, het die verval nie in alle kerke en gemeentes ewe ver gevorder nie. Dit is egter opvallend dat die leerstellings wat onder skoot kom, in ‘n bepaalde volgorde van die periferie af na kernsake geplaas kan word.

1.  Die chiliastiese wederkomsleer

Chiliasme behels die aanvaarding van die letterlike vervulling van Bybelse profesieë oor die eindtyd. Nie net sal Jesus Christus liggaamlik terugkom aarde toe en sy voete op die Olyfberg sit nie, maar daar sal voor die tyd ‘n persoonlike Antichris wees wat sewe jaar lank in die verdrukking oor ‘n wêreldryk sal regeer. Sy openbaring word deur die teenwoordigheid van die kerk van Christus, wat ‘n tempel van die Heilige Gees is, teëgehou. Wanneer die ware gelowiges d.m.v. die wegraping na die hemel toe weggeneem is, sal die Antichris geopenbaar word (2 Thess. 2:3-10).

Ná die Here Jesus se wederkoms aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking sal daar ‘n werklike duisendjarige vrederyk op aarde wees, met die herstelde en geredde Israel as die hoof van die nasies. Die Griekse woord ‘chilios’, wat ‘n duisend beteken, is die basis van die term ‘chiliasme’ wat die geloof in ‘n letterlike vrederyk op aarde ná die wederkoms aandui. Weens die vergeesteliking en allegorisering van Bybelse profesieë is die chiliastiese leerstelling reeds deur die meeste gereformeerde kerke verwerp. ‘n Duidelike uitsondering in hierdie verband is die Evangelies-Gereformeerde Kerk, wat dié leer steeds in ere hou.

‘n Groot Afrikaanse kerk het in 1962 ‘n algemene sinodebesluit ten gunste van die antichiliastiese siening aanvaar, in terme waarvan Bybelse profesieë simbolies of allegories vertolk word. Dit was ‘n totale wegbeweeg van die chiliastiese oortuigings wat die stigters van die kweekskool in Stellenbosch vroeër hierdie eeu gehuldig het. Wyle oom Timo Kriel, wat baie boeke vir die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) in Afrikaans vertaal het, bevestig die feit dat die stigters van die kweekskool op Stellenbosch almal chiliaste was. In ‘n voorwoord vir die boek Die Laaste Nagwaak sê hy onder meer die volgende hieroor:

“Ek was goed bevriend met die stigters van die kweekskool op Stellenbosch: professore Hofmeyr, Marais, De Vos, Muller en ds. Neethling. Hulle was almal chiliaste; trouens, daar was geen ander standpunt bekend nie. Antichiliasme het baie later uit Holland hier aangekom en die oorsaak geword dat ‘n menigte wagters op Sionsmure dié waarhede op hulle boonste rakke weggepak het en ‘n dodelike swye daaroor bewaar. Wat gaan God van hulle eis?”

‘n Geesgenoot en produk van bogenoemde teoloë, dr. D.R. Snyman, wat ‘n NG predikant op Stellenbosch was, was ‘n baie bekende chiliastiese skrywer wat verskeie artikels in die tydskrif Kyk, Hy kom! Gepubliseer het. Op aandrang van die publiek is van hierdie artikels later in ‘n boek saamgevat en deur CUM uitgegee onder die titel: Die komende Christus en die komende krisis. Hierin word die tekens van die tye, die herstel van Israel, die wegraping, die verskyning van die Antichris en die duisendjarige vrederyk beskryf. In die voorwoord van die boek skryf dr. Snyman:

“Ons dink met dankbaarheid terug aan die ondersoek van die profesieë deur manne soos wyle prof. N.J. Hofmeyr, ds. G.W.A. van der Lingen, ds. S.J. du Toit, prof. C.F.J. Muller en prof. J.I. Marais. Laasgenoemde het hom in sy latere jare in die besonder toegelê op die bestudering van die profesieë. Hy was van plan om ‘n uitleg van die boek Openbaring te publiseer. Sy skielike dood het die verskyning van die boek verhinder.”

Al hierdie werke het ‘n chiliastiese [premillennialistiese] verwysingsraamwerk gehad. Ongelukkig is navorsing van dié aard later deur die antichiliastiese siening wat veral uit die Vrye Universiteit in Holland hierheen oorgedra is, onderdruk. Die teologie in Europa is sterk deur die anti-Semitisme van die Tweede Wêreldoorlog beïnvloed. Dit het daartoe gelei dat Israel se profetiese toekoms as volk ontken en die kerk in die plek van Israel as “die Israel van die Nuwe Testament” gestel is. In ooreenstemming hiermee is ander profesieë, bv. dié oor die duisendjarige vrederyk, ook vergeestelik en van hulle letterlike betekenis beroof.

Die verval na antichiliasme het verskeie belangrike teologiese implikasies, waaronder die volgende:

·       Die Bybel word as ‘n simboliese boek gesien wat nie letterlik, grammaties-histories verklaar word nie, maar vergeestelik word. Die skrifgesag word hierdeur ondermyn, ook oor ander sake.

·       Die nuwe hermeneutiese beginsels lei tot die vervangingsteologie, in terme waarvan Israel met die kerk vervang word, die 144 000 geredde Jode van die verdrukking met die gelowiges van alle tye, Babilon met Rome of Amerika, ens.

·       Die ontkenning van ‘n toekomstige vrederyk, en die vereniging daarvan met die huidige kerkdispensasie, lei na ‘n koninkryk-nou teologie waarin voorspoed, rykdom en mag nagestreef word.

·       Die binding van Satan gedurende die vrederyk word ook na die kerkdispensasie verskuif, met die gevolg dat daar omtrent geen demonologie of geestelike oorlogvoering in die teologie is nie. Die aard en omvang van die Christen se stryd word dus heeltemal onderskat. Wanneer mense wél ernstige probleme ervaar, word dit eerder sielkundig as geestelik ondersoek en behandel.

·       Die vergeesteliking van Bybelse profesieë, en die ontkenning van beloftes soos dié oor die wegraping, lei tot geestelike uitsigloosheid onder Christene omdat dit hulle toekomsverwagting oor die wederkoms omtrent heeltemal wegneem. Dit word deur sekulêre ideale en vooruitsigte in die huidige wêreld vervang, asook ‘n oormatige betrokkenheid by politieke en sosio-ekonomiese kwessies.

2. Die leer oor heiligmaking as ‘n tweede genadewerk

In die herlewingstyd in die 18de en 19de eeue is daar sterk klem op heiligmaking as ‘n tweede genadewerk ná bekering gelê. Paulus sê: “Dit is die wil van God: julle heiligmaking… hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Tim. 4:3, 8). Gelowiges wat dié leer in die geloof aanvaar, het ‘n nuwe ontmoeting met die Here wat ook as ‘vervulling met die Heilige Gees’ beskryf kan word. Hierdeur word lou, kragtelose, vleeslike, biddelose en wêreldsgesinde Christene op ‘n pad van voortgesette geestelike groei geplaas. Hulle verkry oorwinning oor versoekings en vleeslikheid en wy hulleself heelhartiglik aan die saak van evangelisasie om sodoende die koninkryk van die hemel te help uitbrei.

‘n Herlewing van hierdie aard het meer as ‘n eeu gelede in Wellington onder die bediening van dr. Andrew Murray begin. Vandag word hierdie leer spottenderwys as ‘n ‘second blessing’ verwerp, of as ‘metodisme’, m.a.w. iets wat op menslike werke berus. In die verwerping van hierdie stap op die heilsweg word beweer dat alle Christene geesvervuld is. Hoe verklaar sulke teoloë die verskynsel van vleeslike Christene wat ‘n lewe van val-en-opstaan lei en duidelik nie onder die beheer van die Heilige Gees leef nie?

·       Paulus dring sterk by die Romeine op ‘n geestelike ingesteldheid aan waarin hulle hulself moet dood reken vir die sonde: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie” (Rom. 6: 11-12). Hulle word vermaan om deur die Gees die werke van die liggaam dood te maak sodat hulle nie na die vlees sal wandel nie, maar na die Gees (Rom. 8:1, 13). Hierby voeg hy ook die feit dat hulle nie aan die wêreld gelykvormig moet word nie, maar verander moet word deur die vernuwing van hulle gemoed (Rom. 12:1-2).

·       Die Korinthiërs word erg verkwalik omdat hulle nie geesvervulde lewens lei nie: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie… omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3).

·       Die Galásiërs word oor hulle dwase optrede verwyt omdat hulle teruggeval het nadat hulle ‘n goeie begin gemaak het: “Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Gal. 3:3).

·       Die Efésiërs word daaraan herinner dat hulle die oue mens, m.a.w. die vlees, moet aflê en hulle met die nuwe mens beklee. Paulus sê vir hulle “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan… en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).

·       By die Kolossense word die beginsels van aflê en beklee ook ingeskerp. Hulle moet hulle lede wat op die aarde is, doodmaak, naamlik toorn, woede, vuil taal en leuens, en hulle volkome met die nuwe mens beklee (Kol. 3:5-10).

Wat gebeur as die leer van heiligmaking nie verkondig word nie? Dan vind daar geen geestelike groei na volwassenheid in die gemeente plaas nie. Lidmate bly kinders in die geloof, wat soos die golwe van die see geslinger en heer en weer gedryf word deur elke wind van lering (Ef. 4:14). Hulle sal nie vanself uit hierdie toestand kom, sonder ‘n oorgawe om die eie-ek, of oue mens, te kruisig en met die Gees van God vervul te word nie. Vir sulke lidmate moet jy maar aanhou om bekering te preek, omdat die meeste van hulle ná ‘n tyd nie eers meer geloofsekerheid het nie. Paulus was om hierdie selfde rede baie ongelukkig met die Herbreërs:

“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens aan julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Heb. 5:12).

Gemeentelede wat nie heilig leef nie, is vol van die wêreld, die sonde en die eie-ek. Hulle het nie geestesvermoëns om goed van kwaad te onderskei nie – ook nie op ‘n leerstellige terrein nie. Hulle is dus maklike slagoffers vir allerlei geestelike dwalinge, insluitende die charismatiese ervaringsteologie met sy toenemende aantal buite-Bybelse ervarings en manifestasies.

3.  ‘n Verlossingsleer wat op wedergeboorte gebaseer is

Nadat daar in afvallige kerke met die chiliastiese wederkomsleer en die leer oor heiligmaking as ‘n tweede genadewerk weggedoen is, is die evangeliese verlossingsleer aangeval. Dit is deur kerklike ritualisering vervang wat op doopsaligheid gebaseer is. Die gevolg hiervan is vormgodsdienstige lidmate wat die Here net met hulle lippe bely, terwyl hulle onweergebore harte ver van Hom af is (Matt. 15:8-9).

Die Bybelse verlossingsleer is op ‘n duidelike belydenis van sonde gebaseer (1 Joh. 1:8-9), op grond waarvan die Here só ‘n persoon se sonde vergewe en aan hom ‘n nuwe lewe gee deur hom geestelik te wederbaar. Sonder ‘n wedergeboorte van hierdie aard sal niemand die koninkryk van God sien nie (Joh. 3:3). Sondaars wat onder die oortuiging van hulle sonde kom, word gekonfronteer met ‘n duidelike besluit wat hulle oor sondebelydenis en bekering moet neem. Die leer oor wedergeboorte word egter in die verbondsteologie met die doop vervang. Op grond hiervan word ‘n persoon vir tyd en ewigheid salig verklaar, terwyl hy volgens Bybelse standaarde dalk glad nie eers gered is nie!

Dit is tot sulke geestelik veragterde en teruggevalle kerke dat die oproep van die Here Jesus kom: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).

Indien sulke gemeentes nie die evangeliese verlossingsleer en die leer oor heiligmaking in ere herstel nie, sal die Here sy kandelaar van hulle af wegneem en dan sal totale duisternis in hulle midde heers. Dit is presies wat die duiwel wil hê, want dan kan hy hulle sinne verblind om die Bybel as God se Woord te verwerp, asook vir Jesus as die Seun van God en die enigste Verlosser van die wêreld.

4.  Die Bybel as die foutlose en letterlik geïnspireerde Woord van God

Prof. Sakkie Spangenberg van Unisa, wat self nie glo en bely dat die Bybel die foutlose en letterlik geïnspireerde Woord van God is nie, beskryf die paradigmaverandering in die Bybelwetenskappe só:

·       Aanvanklik is die Bybel as Die Woord van God beskou, en is die historiese, letterlike verklaringsmetode gevolg. Dié siening is deur die kerkhervormers bevestig. Dit berus op die aanvaarding van die feit dat die Bybel God se Woord is wat onder die leiding van die Heilige Gees deur individuele gelowiges geskryf is. God het Homself deur sy Woord aan ons geopenbaar. (Evangeliese Christene glo dit vandag nog – red.).

·       Daarna is die Bybel as God se Woord in mensetaal gesien, en dit het aan die einde van die 19de eeu tot die histories-kritiese verklaringsmetode [die sg. ‘hoër kritiek’] gelei. In terme van hierdie siening bestaan die Bybel uit ‘n versameling Nabye-Oosterse godsdienstige geskrifte wat deur beperkte, feilbare mense geskryf is, en wat dikwels hersien en uitgebrei is. Hulle geskrifte bevat geloofsinsigte en geloofsgetuienisse uit daardie tyd.

·       Tans word die Bybel as Woorde óór God bestempel en word die literêre verklaringsmetode beoefen. Dit het in die middel-sewentigerjare sy beslag gekry. In die moderne literatuurwetenskap het die klem van die outeur na die teks en uiteindelik na die leser verskuif. Narratologiese en retoriese analises word van Bybelgedeeltes gedoen, asook dekonstruksie en ander literêre metodes van analise. Die Bybel kan nou vryelik as ‘n samestelling van mites en verhaaltjies beskou word waarvan morele toepassings gemaak en sedelesse afgelei kan word. Dit is vir verskeie vertolkings oop.

Prof. Spangenberg het die NG Kerk in ‘n referaat in Stellenbosch voor die uitdaging gestel: (1) om dele van die Bybel as mites [of stories] te beskou, en (2) om ook die geskrifte van ander godsdienste te lees ten einde sin in die lewe te verkry.

Nie almal se verwerping van die Bybel as God se Woord strek tot dieselfde uiterstes nie, maar fundamentele denke oor hierdie saak word nog net in kleiner kringe aangetref. Die nuwe benadering tot die Bybel kan ook in verskeie nuwe vertalings gesien word, waarin die vertalers nie skroom om volgens hulle eie siening eksegeties te vertaal en ook sekere [volgens hulle] omstrede sinne of tekste uit te laat nie. Bedenklike grondtekste word aan hulle voorsien, en aansienlike vryhede word ook deur die dinamies-ekwivalente vertaalmetode aan hulle verleen. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling is ook só vertaal, daarom moet dit deur evangeliese Christene verwerp word. Hierdie Bybel hét sekerlik waarheid in, maar dit is nie die hele waarheid en niks anders as die waarheid nie!

5.  Die Godheid en uniekheid van Jesus Christus

Die mees fundamentele Christelike leerstelling wat deur die liberale teologie aangeval en verwerp word, is die Godheid van Jesus Christus. ‘n Lewendige debat word die afgelope paar jaar hieroor gevoer. Verskeie Suid-Afrikaaanse teoloë sê nou openlik dat die sg. ‘historiese Jesus’ nie ‘God’ is nie. Hiermee saam word ook die uniekheid van Jesus as die enigste Verlosser van die wêreld verwerp, en word beweer dat saligheid ook deur die ander gelowe soos Islam, die Boeddhisme, Hindoeïsme en die Afrika-gelowe verkry kan word. Daar is dus “baie paaie wat na Rome lei.”

Hierdie nuwe siening van Jesus, asook die multigodsdienstige scenario waarin die Christendom met die ander gelowe gelykgestel word, word reeds in verskeie nuwe handleidings vir skool- en universiteitsonderrig oor religie aangebied.

Hoe lank is dit nog voordat hierdie drogrede ook tot op die gemeentelike vlak in afvallige kerke sal deurdring? Petrus se waarskuwing is in ons tyd baie relevant wanneer hy sê: “Daar sal onder julle valse leraars wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën” (2 Pet. 2:1). Hoe verloën baie van hulle Hom nie nou reeds as God, as die Seun van God, en as die enigste Verlosser van die wêreld nie! Hierdeur bewerk die valse leraars hulle eie verderf en ondergang, asook van diegene wat deur hulle mislei en op die breë pad van Satan aangehelp word.

Slot

Ons is baie duidelik nou in die tyd van die groot afval net voordat die Antichris, as die mens van sonde, geopenbaar gaan word (2 Thess. 2:3-4). Ons moet egter in ‘n tyd soos hierdie nie na die verkeerde kant toe van die draad afval, as ons dalk draadsitters is wat nog nie duidelike standpunte oor Christelike leerstellings ingeneem het nie. Die Here Jesus sê dat daar ‘n groter skeiding tussen geregtigheid en ongeregtigheid moet kom:

“Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word" (Op. 21:11). “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1).

Besoedeling van die vlees is morele sondes, terwyl die besoedeling van die gees op leerstellige dwalinge, bygeloof en ongeloof dui. Hiervan moet ons verlos word. Dit sal alleen gebeur as ons met die Gees van God vervul is, verligte oë van die verstand het en deur die onvervalste melk van die Woord gevoed word (1 Pet. 2:2).

Meer as ooit tevore móét ons ons lig tot eer van die Here en sy koninkryk laat skyn. Sonder duidelike geloofsoortuigings sal ons deur die mag van die duisternis oorval en meegesleur word. Mag die Here ons bewaar sodat ons onberispelik voor Hom kan verskyn.

Watchman Nee 88