Print

Aanval op die Belofte oor die Wegraping

Written by Prof Johan Malan.

Dit het onder sommige antichiliaste ‘n populêre gebruik geword om ongeregverdigde en swak gemotiveerde aanvalle op die leer oor die wegraping te maak, asook op profesieë oor die herstel van Israel, die verskyning van ‘n persoonlike Antichris, en Christus se duisendjarige ryk ná sy wederkoms. ‘n Persoon wat homself hieraan skuldig maak, is “profeet” Kobus van Rensburg van Lofdal Bedieninge. In hierdie artikel word sy video-boodskap, “The ultimate shock of the Rapture,” in die lig van die Skrif beoordeel.

‘n Groot aantal chiliastiese skrywers word in dié boodskap genoem, wat volgens Kobus almal die “dwaling” van die wegraping verkondig. Hy sonder veral vir J.N. Darby, Clarence Larkin en C.I. Scofield as “three blind mice” uit en sê dat hy niks met hulle te doen wil hê nie omdat hulle na bewering met verkeerde dinge deurmekaar was. Hy lewer egter geen bewyse hiervan nie, anders net as om ‘n wolk van verdenking oor hierdie godsmanne te plaas. Hy dryf ook met verskeie chiliastiese skrywers en predikers die spot omdat hulle die afgelope 30 jaar sou gesê het dat die streepkodes op handelsware die merk van die Antichris is, en dat die wegraping en die Derde Wêreldoorlog binnekort sou plaasvind. Volgens hom wag daar nog ‘n lang en gelukkige lewe hier op aarde op ons as ons net die koninkryk begin verkondig en uitleef.

Uitdagings

Tydens sy boodskap het die profeet meer as een keer ‘n uitdaging aan sy gehoor gerig om vir hom bewyse uit die Skrif te bring: (1) dat Jesus vir sy gemeente sal kom, (2) dat Jesus sy gemeente sal wegneem, (3) dat die tempel in Jerusalem herbou sal word, en (4) dat die bot van die vyeboom op die herstel van Israel dui. Bewyse hiervoor kan maklik uit die Bybel gebied word, as Kobus van Rensburg maar net die volgende Bybelse stellings in aanmerking wou neem:

Jesus sal inderdaad vir sy gemeente kom. Hy het gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3). Wanneer Jesus sy gemeente kom haal om hulle na Hom toe weg te neem, kom Hy duidelik net vir hulle (vgl. ook Heb. 9:28).

Jesus sal sy gemeente wegneem. Die genoemde teks in Johannes 14 dien terselfdertyd as ‘n bewys dat die Here sy gemeente sal wegneem na ‘n plek wat Hy in die hemel vir ons gaan voorberei het. Paulus bevestig ook dat Hy ons sal kom haal: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (1 Thess. 4:15-18). Kobus sê egter dat hierdie teks slegs aandui dat Jesus aarde toe kom om hier met sy gemeente te wees. Hy sal hulle glo nie wegneem nie. Volgens hom sal diegene wat “weggevoer word die Here tegemoet in die lug,” dit net as ‘n verwelkomingsgroep doen wat vir Jesus die laaste entjie saam aarde toe sal vergesel.

Die tempel gaan beslis in Jerusalem herbou word. In die jaar 95 op die eiland Patmos, 25 jaar nadat die tempel in Jerusalem deur die Romeine verwoes is, het Johannes oor die opmeet en herbouing van die tempel in Jerusalem geprofeteer (Op. 11:1-2). Dit sal in die komende verdrukking gebou word. Paulus het na dieselfde tempel verwys, waarin die Antichris homself tot God sal verklaar (2 Thess. 2:4). Dit sal nie lank voor die openbare verskyning van die Here Jesus wees nie, want die Antichris sal dan as ‘n lewende persoon deur Jesus Christus verdelg word (2 Thess. 2:8). Jesus het na dieselfde ontheiliging van die tempel verwys (Matt. 24:15), en bygevoeg dat dit deur die groot verdrukking gevolg sal word (Matt. 24:21),aan die einde waarvan Hy in krag en majesteit na die aarde sal terugkeer (Matt. 24:29-30).

Die bot van die vyeboom. Die vyeboom in Lukas 21:29-30 is beslis ‘n simbool van Israel (Hos. 9:10; Jer. 24:5). In dieselfde hoofstuk bevestig die Here die feit dat Jerusalem se vertrapping aan die einde van die tye van die nasies sou ophou (Luk. 21:24), wat daarop dui dat die stad in die eindtyd weer die hoofstad van die herstelde Israel sal wees. Jerusalem is in Junie 1967 deur die Jode herower en in Augustus 1980 tot die hoofstad van Israel verklaar. Die vyeboom het nou al ‘n hele ent gegroei, en die somer is naby! Hoe kan ons nou nog die herstel van Israel ontken?

Die historiese vervulling van profesieë

Kobus is ‘n sterk voorstander van die historiese vervulling van profesieë oor die eindtyd. Volgens hom is profesieë oor die groot verdrukking (Matt. 24:15-22) in die eerste eeu tydens die verwoesting van Jerusalem vervul. Dit beteken vir hom die einde van Israel as God se volk en hulle vervanging deur die Nuwe Testamentiese gemeente. In die lig hiervan beweer hy dat al Daniël se profesieë ook in historiese tye vervul is, en gevolglik nie saam met die profesieë van Openbaring gelees moet word nie. Dit sluit ook Daniël se profesie oor die 70 jaarweke in, wat volgens Kobus ‘n aaneenlopende tydperk aandui. Hy verwerp die idee dat die 70ste jaarweek van die voorafgaande 69 losgemaak is en eers in die eindtyd vervul sal word. Die feit is egter dat Israel deur die verwerping en kruisiging van die Messias hulleself van Hom afgesny het en daardeur self die pad van tydelike verwerping en internasionale verstrooiing verkies het. In hierdie tyd is hulle buite God se heilsplan vir sy volk. Hulle sál (en het) egter na hulle land teruggekeer en sal in die 70ste jaarweek ‘n verbond met die Antichris sluit. Aan die einde van dié jaarweek, tydens die wederkoms van die Messias, sal hulle met Hom versoen word en dan eers die seëninge beleef wat in Daniël 9:24 beskryf word – die goddeloosheid sal dan voleindig wees en ewige geregtigheid sal vir die geestelik herstel volk aanbreek (vgl. Jer. 31:31-34; Eseg. 36:22-28; Sag. 8:22-23). Die profeet verwerp egter die letterlike vervulling van hierdie profesieë, en steur homself nie aan eietydse gebeure in Israel en die Midde-Ooste nie.

‘n Aardse koninkryk

Kobus het ‘n groot  deel van sy boodskap gewy aan ‘n betoog dat die mens op die aarde bly, gesag oor die aarde gekry en dit deur die sondeval verloor het, sy gesag weer deur Christus se offer teruggekry het, en uiteindelik die aarde sal beërwe. Hy haal Openbaring 5:10 aan, waar die ouderlinge in die hemel die Lam toesing: “U het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” Jesus se groot doel was dus nie om vir ons ‘n hemelse erfenis voor te berei nie, maar om ons konings op aarde te maak. Hy verswyg egter die feit dat die aardse koninkryk van Christus net gedurende die millennium sal verloop, en dat die permanente tuiste van die verheerlikte kerk die nuwe Jerusalem is. Hierdie wonderskone tuiste het die Here Jesus in die hemel vir ons gaan voorberei (Joh. 14:2-3; Op. 21:1-2).

Die profeet spot met die verwagting van ‘n hemelse stad en sê dat ons net daarop ingestel moet wees dat Jesus gekom het om ons verlore heerskappy oor die aarde hier en nou aan ons terug te gee. Ons kry goddelike outoriteit by Hom om oor die aarde te heers. In die lig hiervan, sê Kobus, moet daar ‘n koninkryksteologie verkondig word wat gerig is op die ideaal dat die mens oor die aarde sal regeer. Hy sê dat kerke wat aan hulle lidmate leer dat ons eendag hemel toe gaan, leuens verkondig omdat hulle teologie gedemoniseer is – vir hom is dit dus ‘n duiwelse leerstelling. Hy sê ons moenie die hoop koester dat die Here ons sal kom haal en hemel toe vat nie.

Volgens Kobus sal die Here net die goddeloses wegraap, van die aarde af verwyder en uitwis sodat die regverdiges die aarde in besit kan neem. Hy noem Noag en die sondvloed as ‘n voorbeeld, en sê dat die Here die goddeloses van die aarde af weggeneem het sodat Noag en sy gesin die aarde kon beërf, bewoon en vul. Hy sê dat die aarde nie vol lyke was toe die vloed gesak het nie – hulle was almal weg. As bewys van ‘n “wegraping” van goddeloses het hy uit Sefanja 1 aangehaal: “Saamskraap, wegraap sal Ek alles van die aardbodem af weg, spreek die Here. Ek sal wegraap mense en diere... ja, Ek sal die mense uitroei van die aardbodem af weg, spreek die Here” (Sef. 1:2-3). Dit verwys egter na die verdelging van die goddeloses gedurende die groot verdrukking, nadat die gelowiges reeds in die hemel by Hom versamel is.

Kobus pas hierdie idee ook op die Nuwe Testament toe en beweer dat die goddeloses soos onkruid versamel, in bondels gebind en verbrand sal word sodat die regverdiges die aarde kan beërwe. Daar is vir hom dus nie ‘n versameling en wegvoering van die regverdiges na die hemel toe nie. Geen hemelse bestemming word deur hom verkondig nie, ook nie ons opdrag om skatte in die hemel bymekaar te maak nie. Ons moet slegs die aarde oorneem en vir altyd hier bly. Hy spot openlik met dié wat hemel toe wil gaan, en sê hy wens hy kon ‘n vloekwoord oor die chiliastiese “teorie” en die beloftes oor ‘n wegraping vir gelowiges skryf. Hy gebruik dan ‘n onvoltooide sin om sy hoorders self te laat besluit wat ‘n gepaste vloekwoord sou wees, en sê die siening oor die wegraping is ‘n klomp..... Hy sê ook dat hy sommer lus is om te vloek as mense beweer dat die gelowiges weggeraap sal word en dat die Here daarna 144 000 geredde Jode sal gebruik om die wêreld te evangeliseer. Dit pas glad nie in sy denkraamwerk in dat gelowiges die aarde sal verlaat nie, want die koninkryk wat hy verkondig, is uitsluitlik net van hierdie wêreld.

Onkunde

Kobus het in sy boodskap groot onkunde oor die eskatologie geopenbaar. Baie van die vrae wat mense aan hom gevra het, het hy omseil omdat hy dit nie kon beantwoord nie. Soms het hy sy onkunde openlik erken. Hy het gesê hy weet nie wie die 144 000 verseëldes van Openbaring 7 is nie, en hy weet ook nie regtig of daar ‘n duisendjarige vrederyk sal wees nie. Hy het ook gesê hy weet nie wanneer elke knie voor Jesus sal buig en elke tong sal bely dat Hy die Here is nie.

Dit is onmoontlik om enige geloofwaardigheid aan hierdie boodskap oor die verwerping van die wegraping te verleen. Inkonsekwente Skrifverklaring, vaagheid, teenstrydighede en onkunde, asook ‘n verwronge koninkryksteologie, veroorsaak dat daar geen samehangende beeld oor die vervulling van Bybelse profesieë geskep is nie. Die Bybel is gruwelik verdraai. Die openlike en herhaalde spot met mense wat die wegraping verkondig, het ‘n gees van arrogansie, veroordeling en minagting geskep wat geensins met die oortuigingswerk van die Heilige Gees versoen kan word nie. Die Bybel is ook in diskrediet gebring omdat eindtydse profesieë só skeef en krom verklaar is dat hulle alle logiese betekenis verloor het. Al die honderde profesieë oor Israel se herstel na hulle eie land word ontken, en die belofte aan hulle oor ‘n aardse koninkryk word op die kerk oorgedra.

Die profeet kon ook nie verder oor die Here se oordele oor die sondaars uitwei nie, anders as net om te sê dat die goddeloses weggeraap en verdelg sal word. Hy het gesê dit maak hom bang om oor die oordele van die Here te praat. Hierdie boodskap van hom kom op misleiding eerder as op Bybelse onderrig neer, gevolglik kan dit mense net verwar in plaas van seën. Wanneer ‘n Skriftoets op die boodskap toegepas word, blyk die gees wat ten grondslag van die boodskap lê, ‘n gees van misleiding te wees (1 Joh. 4:1; vgl. ook Matt. 7:22-23 en 24:11,24).

AW Tozer 22