Print

Bandelose Vryhede Opgeëis

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Die moderne mens ag homself volkome vry en glad nie rigied aan enige ideologie gebonde nie.

Die nuwe klem op historisme is die dryfkrag agter die radikale postmoderne hervormings wat oral in die wêreld plaasvind. Mense bevry hulleself deur die verwerping van universele en histories beproefde waardes om te kan lewe net soos hulle wil. Dit is 'n resep vir wanorde en rampspoed.

Historisme is ‘n filosofiese denkrigting wat besig is om oral in akademiese kringe, in die teologie, in die politiek en in die alledaagse lewe sy stempel ten gunste van groter humanistiese vryhede af te druk. Hiervolgens word alle mense in enkelvoudige terme as uniek beskou, en hulle veranderende historiese lewenservarings ook as uniek. Daar is nie twee mense wat dieselfde is, met dieselfde ervaringe, idees en begeertes nie. Daar is dus nie algemeen geldende norme en reëls vir almal nie.

Daar is geen vaste strukture of ‘n onveranderlike waarheid in die wêreld nie. Daar is niks gemeenskapliks nie omdat elke mens uniek is en in sy tydsomstandighede sy eie waardes en norme bepaal. Alles versmelt in die geskiedenis en word in elke tydperk opnuut deur individue bepaal. Daar is gevolglik nie universele strukture of groepe nie – net individue.

Die waarheid versmelt ook in die proses van die historie, dus het elke tydperk sy eie waarheid. Dit is nooit algemeen geldend nie en kan nie op ander groepe of tydperke toegepas of afgedwing word nie. Alles is soos wat individue dit subjektief beleef en bepaal.

Die Bybel is histories en situasie-gebonde

Volgens hierdie benadering is die Bybelse waarheid ook histories gebonde. Dit geld net vir die tyd en samelewing waarvoor dit geskryf is. Daar is nie universele, tydlose waarhede in die godsdiens nie, dus verval die boodskap van die Bybel vir die moderne mens.

Die nuwe hermeneutiek in die teologie is om te probeer verstaan wat kultuur-histories vir ‘n bepaalde groep mense geskryf is. Dit geld dan net vir hulle en nie vir ons vandag nie. Iets wat in Bybelse tye as sonde beskou is, bv. homoseksualisme, word nie vir die moderne mens as sondige of anti-sosiale gedrag gereken nie. Die Bybel het dus gedurende die verloop van die geskiedenis grootliks sy relevansie verloor.

Postmodernisme

Die postmodernisme is die radikalisering van die historisme. Die ideologieë en strukture van die moderne tydvak word aan ‘n dekonstruksieproses onderwerp en afgetakel. Só bevry die moderne mens homself van politieke, godsdienstige, sosiale en ekonomiese strukture wat deur hulle determinisme sy vryhede aan bande gelê het. Individuele vryhede word opnuut bekklemtoon en elkeen kan doen net wat hy wil. Sodoende ontstaan daar ‘n eklektiese kultuur waarin daar geen agting vir tradisie is nie. Elkeen kan aantrek, praat, glo en doen soos hy wil.

As gevolg van die vrydenkery en eklektisisme vind daar ‘n totale ineenstorting van groepswaardes, strukture en norme plaas. Radikale humanisme en subjektivisme neem die plek daarvan in. In die lig hiervan is dit oneties om voorskriftelik op te tree deur vir ander mense te sê wat hulle moet doen. Elke mens is outonoom en kan sy lewe na goeddunke reël. Hy is sy eie baas, sy eie god en bepaal ook sy eie norme.

Dié postmodernistiese historisme het reeds baie gevestigde strukture verwoes – onder meer ook kerke. Dit is verkeerd om sterk normatief vir iemand te preek en reëls of beginsels aan hom voor te skryf. Elkeen leef in sy eie situasie waarin hy sy waarheid en lewenstyl subjektief bepaal.

In elk geval, so word beweer, is die Bybel nie vir vandag se mense geskryf nie. Wat bly dan in die humanistiese samelewing van kerklike tradisies en geloofsopvattings oor? Niks nie, want alles het verander. Die kansel kan platgeslaan word, want daar is geen gesag meer in sy boodskap nie. Die orrel kan ook uitgegooi word om vir byderwetse musiek plek te maak. ‘n Moderne atmosfeer word deur ‘n orkes geskep wat op die nuutgeboude verhoog stelling inneem.

Preke word verkorte morele praatjies oor die viering van menslike vryhede en regte. Kunstenaars word uitgenooi om die verveelde skare te vermaak. Sodoende word die kerk mettertyd in ‘n konsertsaal en oop gemeenskapsentrum omskep.

Sondaars het geen gewete nie omdat alles wat hulle doen, in terme van die moderne mens se vryheidstrewe geregverdig word. Dit is vanselfsprekend dat die Antichris, as die mens van sonde, uit só ‘n samelewing na vore sal kom en gou internasionaal aanvaar sal word.

Soos met bandelose vryhede van hierdie aard, is die drastiese toename in chaos en wanorde op elke lewensterrein ‘n uitgemaakte saak. As elkeen kan doen wat hy wil, en dit ook vir homself kan regverdig, dan sal mense drink, steel, lieg, bedrieg, plunder, moor en seksueel losbandig leef soos nog nooit tevore nie. Soos in die tyd van Noag sal al die versinsels van hulle harte altyd net sleg wees (Gen. 6:5). Hierdie dekadente geslag mense sal blinde volgeling van die Antichris op sy reis na die verderf wees en God sal sy oordele oor hulle uitstort.