Print

Geestelike Verval Neem Groter Afmetings Aan

Written by Prof Johan Malan.

Verskeie Calvinistiese kerke in die wêreld is deel van die groot, eindtydse verval op godsdienstige terrein. Baie van hulle verkondig nog net ‘n gedaante van godsaligheid, waarin die wederbarende krag van die Heilige Gees verloën word (2 Tim. 3:5). In ‘n poging om hulleself by ‘n humanistiese nuwe wêreldorde aan te pas, orden hulle homoseksuele leraars. Hulle val ook evangeliese Christene aan wat die herstel van Israel na hulle eie land erken. Dié kerke se leiers meen dat indien hulle in ‘n moderne konteks “polities korrek” optree deur homoseksualisme te erken, Israel te veroordeel en Islam goed te praat, hulle aansienlike populêre steun in die samelewing sal geniet. Só word hulle meer en meer wêreldgelykvormig en van die Bybel afvallig.

Die gevolge van geestelike misleiding is ernstig omdat mense daardeur van die waarheid in die Woord van God afvallig gemaak word. Die volgende is voorbeelde hiervan:

Die ontkenning van Israel se herstel. Mense wat profesieë oor Israel se herstel ontken, ontneem hulleself van die belangrikste teken van die eindtyd en verloor sodoende tred met die vervulling van Bybelse profesieë. Die Here Jesus het gesê dat die Jode nie net in hulle eie land terug moet wees wanneer Hy weer kom nie, maar ook in hulle hoofstad, Jerusalem (Matt. 23:37-39; Luk. 21:24). Hy het ook na die nasionale (staatkundige) herstel van Israel verwys nadat die opdrag van wêreldevangelisasie uitgevoer is (Hand. 1:6-8). Wanneer die Messias weer kom, sal Hy die hele oorblyfsel van Israel red (Rom. 11:25-26; Sag. 12:10).

Die ontkenning van die mens se vrye wil. Wanneer die mens se vrye wil ontken word, word verkeerdelik beweer dat alles wat hy dink of doen, gepredestineer is, insluitende sy redding. Hierdie Calvinistiese dwaling lei daartoe dat God die skuld kry vir alles wat op aarde verkeerd gaan – ook vir almal wat verlore gaan, want dit gebeur met hulle omdat hulle nie uitverkies is nie. Sulke mense skram van die duidelike Bybelse boodskap weg om tot bekering te kom (Hand. 17:30), en aanvaar nie regtig aanspreeklikheid vir hulle eie lewe voor God nie. Hulle sien hulleself feitlik net as robots wat eensydig deur die Here geprogrammeer is om op ‘n bepaalde manier op te tree. As Christene aanvaar hulle nie verantwoordelikheid vir heiligmaking en volharding nie, omdat hulle glo dat die Here hiervoor sal sorg en dat hulle in elk geval nooit afvallig kan raak en verlore gaan nie, dus kan hulle as gelowiges maar leef soos hulle wil.

Die ontkenning van wêreldgebeure buite God se wil. Die Calvinistiese beskouing dat daar niks buite ‘n soewereine God se wil gebeur nie, lei daartoe dat gelowiges ernstige probleme het om rampe en ellendes te kan verklaar. Die hoof van die Anglikaanse Kerk, aartsbiskop Rowan Williams, het na aanleiding van die tsunami-ramp in Suidoos-Asië gesê: “Hoe kan mens in ‘n God glo wat lyding op hierdie skaal toelaat? As God soewerein is, waarom laat Hy natuurrampe toe? Hoe kan ‘n goeie God sulke vreeslike lyding goedkeur?” Dr. Williams betwyfel nou die bestaan van God. Die ander alternatief is dat mense nie die bestaan van God sal ontken nie, maar Hom openlik sal beskuldig en belaster omdat daar soveel plae op aarde voorkom (Op. 16:9,11,21).

Wat is dan die waarheid oor God se soewereiniteit? Hy het besluit om denkende mense te maak wat ‘n vrye wil het, en dus die keuse het of hulle in God, in Satan, in afgode, in voorouergeeste of net in hulleself wil glo. God wil hê dat mense Hom vrywillig moet liefhê en dien. Omdat hulle egter nie hiertoe verplig of gepredestineer is nie, kan hulle na die duiwel luister en hóm dien. Die feit dat die oorgrote meerderheid van die wêreld se bevolking laasgenoemde weg volg, verklaar waarom die wêreld effektief onder Satan se beheer is (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4; Ef. 6:12; 1Joh. 5:19).

Dit beteken nie dat God beheer oor die wêreld verloor het nie, maar dat Hy ‘n groot mate van beheer aan die mens oorgegee het (Gen. 1:26-28), en dat die mens hierdie beheer deur sy eie toedoen in Satan se hande laat val het deur vrywilliglik na hóm te luister (Gen. 3:1-6). Sowel die duiwel en sy gevalle engele as alle mense wat deur hulle mislei is, is onder die oordele van God. Omdat God sy oppergesag behou, sal Hy nie onbepaald toelaat dat sondaars in rebellie teenoor Hom leef nie, maar almal volgens hul werke oordeel (Hand. 17:31). Sy attribuut van toorn oor sonde moet dus terdeë in ag geneem word.

Op grond van sy liefde wil God alle mense op aarde red – nie net sekere “uitverkorenes” nie (Joh. 3:16; Hand. 17:30; 1 Tim. 2:3-4; 2 Pet. 3:9). Op grond van se regverdigheid en toorn oor sonde sal Hy egter alle sondaars tot die ewige poel van vuur veroordeel (Matt. 25:41; Op. 20:11-15). Die vormgodsdienstiges wat hulleself én vir andere salig verklaar het, is ook onder God se oordele (Matt. 7:21-23; 2 Tim. 3:5). Die soewereiniteit van God staan dus vas. Alhoewel mense die vryheid het om die rug op Hom te draai, sal almal uiteindelik tot rekenskap gedwing word en sal elke knie voor die Here Jesus moet buig (Fil. 2:10-11). Hy is óf jou Redder óf jou Regter – jy het die keuse. As jy Hom as Redder aanvaar, kom jy nie in die oordeel nie (Joh. 5:24; Rom. 8:1). Indien jy nalaat om sy reddende genade in die geloof te aanvaar, sal die Lam jou Regter wees wat God se toorn oor jou sal laat kom (Hand. 10:42; Op. 6:16-17).

Die Here Jesus het om goeie rede gesê: “Pas op dat niemand julle mislei nie...” (Matt. 24:4).