Print

Geestelike Verval

Written by Prof Johan Malan.

Dit is nodig dat ‘n mens duidelikheid oor die verskynsel van teruggevallenheid het, sodat jy dit betyds kan identifiseer en ook gepaste stappe van herstel kan neem wanneer jy self geestelik veragter. Indien jy die objektiewe waarheid oor geestelike verval wil vasstel, moet jy jou nie na eensydige kerklike leerstellings vir ‘n finale antwoord wend nie, maar na die Bybel. Omdat kerke vir hulleself leerstellige riglyne oor die geloofslewe neergelê het, en hierdie riglyne binne die Protestantse Christendom nie altyd ooreenstem nie, moet ons uiteenlopende sienings oor hierdie saak verwag.

Sommige denominasies (veral in die Wesleyaanse tradisie) erken die verskynsel van geestelike verval en spreek die probleem ook in hulle prediking en pastorale sorg aan, terwyl andere (veral die Calviniste, Lutherane en Anglikane) dit heftig ontken. Uiteraard kan hierdie botsende sienings nie albei korrek wees nie. Evangeliese Christene kan hulleself net aan dié siening verbind wat ‘n grondige Skriftoets kan deurstaan.

Stagnasie en veragtering

‘n Christen se geestelike lewe is nie ‘n statiese en onveranderlike toestand nie. Jy gaan óf vooruit óf agteruit. Die opdrag in die Bybel is dat jy vooruit moet gaan en opgroei na die volwasse man of vrou in Christus (Ef. 4:13-14; Heb. 5:12 tot 6:1). Petrus sê: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose [bose] mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18).

Petrus sluit sy brief met ‘n waarskuwing én ‘n bemoediging af. Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary) sê: “Die woorde ‘noudat julle dit dan vooruit weet’ is die vertaling van een Griekse woord (proginoskontes), waarvan die woord prognose afgelei is. Wanneer ‘n mediese prognose gemaak is, kan ‘n pasiënt homself beter op die toekoms voorberei deur bv. die regte dinge te doen. Wanneer ‘n dokter sê: ‘As jy aanhou om so baie te eet, sal jy oor ‘n paar jaar ernstige hartprobleme hê,’ dan weet die pasiënt dit vooraf en kan sy lewenswyse daarvolgens bepaal. Petrus het ook gewaarsku dat Christene deur bose mense mislei kan word en uit hulle standvastigheid verval. Die uitdrukking “dat julle nie miskien meegesleep word nie” dui op ‘n groepsbeweging. Valse leraars is nie tevrede om net nou en dan ‘n paar mense te mislei nie, want hulle is daarop ingestel om groot groepe op ‘n dwaalweg te lei. Mense wat na hulle luister, verkeer in die gevaar om geestelik weg te val (dié werkwoord word in 2 Pet 1:10 as struikel vertaal en in Gal. 5:4 as verval).”

As jy nie in die genade en kennis van Christus toeneem nie, dan vervaag selfs die kennis wat jy reeds opgedoen het en maak jou vatbaar vir misleiding. Hierteen waarsku die Bybel ons ernstig, omdat geestelike stagnasie en agteruitgang die teendeel van ‘n lewe van toenemende heiligmaking is: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Heb. 12:14-15).

Dit is opvallend dat mense wat in die genade veragter, verbitterd en veroordelend oor baie dinge raak. In hulle gesprekke dra hulle hierdie negatiewe gedagtes op andere oor en besoedel hulle sodoende geestelik. Sommige van die teruggevallenes is selfs teen die Here verbitterd omdat Hy na bewering sekere dinge toegelaat het om met hulle te gebeur. Hulle laat egter na om hulle eie vleeslikheid, en ook die duiwel wat hulle verlei het, vir hulle ellendes te blameer. In plaas hiervan maak hulle van hulself onskuldige martelare en bevorder ook gevoelens van ongeloof en twyfel onder dié Christene wat hulle oor hul geestelike probleme aangespreek het.

Die basiese rede vir geestelike veragtering is sonde. Baie Christene bied nie weerstand teen die sonde nie. As gevolg van hulle kompromie stel hulle hulself aan sonde bloot en word daardeur van die Here af weggetrek: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes” (1 Kor. 15:33). Jesus het gesê: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12).

Óf herstel óf verdere verval

Die oproep aan teruggevallenes is dat hulle hul van die gevaarlike pad van sonde af tot die Here moet bekeer. Indien hulle dit nie doen nie, kan hulle uiteindelik in ‘n toestand van rebellie verval waarin die Here sy Heilige Gees aan hulle sal onttrek en hulle dus nie meer kinders van Hom sal wees nie. Aan die gemeente in Éfese sê die Here Jesus: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Die kandelaar is die houer waarin die olie gegooi is om die lamp brandend te hou. Dit simboliseer die werk van die Heilige Gees. Wanneer die kandelaar weggeneem word, tree daar totale duisternis in.

Dieselfde gevolge van moedswillige sondes het ook in die Ou Testament voorgekom: “As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen – sal hy lewe? Aan al sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe” (Eseg. 18:24).

Dit is die tragiese uiteinde van ‘n pad van terugval. Die Here het vir Israel gesê: “Jy het My verwerp, spreek die Here, jy het ál agteruitgegaan” (Jer. 15:6). Uit hierdie vervalle toestand is hulle egter dikwels tot bekering opgeroep: “Bekeer jou, Israel, tot die Here jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid” (Hos. 14:2). “Keer terug o afkerige [teruggevalle] Israel, spreek die Here. Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die Here” (Jer. 3:12).

Sonde en wêreldsgesindheid

Die mees algemene redes vir geestelike verval is sonde en wêreldsgesindheid. Indien jy jouself hieraan oorgee en daarin leef, dan ondermyn dit jou geloofslewe en vernietig dit uiteindelik. Aanvanklik veragter jy net in die genade, maar later raak jy van die geloof afvallig as jy nalaat om jou daarvan te bekeer en jou saak met die Here weer reg te maak.

Paulus waarsku ernstig teen hierdie moontlikheid: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13).

Dit is duidelik dat hierdie “broeders” daarteen moet waak dat hulle nie aan die verleiding van die sonde toegee en as gevolg daarvan in sonde begin leef nie. Wanneer hulle dít doen, dan raak hulle van die lewende God afvallig en kry bose en ongelowige harte. Indien hulle in daardie toestand sterf, sal hulle sekerlik verlore gaan. Hulle moet opnuut tot bekering kom as hulle weer Christene wil word.

‘n Voorbeeld van hierdie aard vind ons in die gelykenis van die verlore seun. Hy het nie geleidelik in sonde verstrik geraak nie, maar ‘n konkrete besluit geneem om sy vaderhuis te verlaat. Hy het willens en wetens sy verhouding met sy vader verbreek omdat hy in die wêreld in sonde wou gaan leef. Daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te leef (Luk. 15:13). Hy het baie van sy geld op hoere deurgebring (Luk. 15:30).

Gelukkig het hierdie jong man in sy sondige en teruggevalle toestand tot besinning gekom en besluit om terug te gaan en weer sy verhouding met sy vader te herstel. Hy was bereid om sy vader se gesag so absoluut te aanvaar en homself daaraan te onderwerp, dat hy hom voorgeneem het om ‘n nederige en onwaardige dienskneg in sy vaderhuis te word.

Die verlore seun het geweet dat hy gruwelik gesondig het, en dat sy sonde skeiding tussen hom en sy vader gemaak het. Hy het besluit om hierdie sondes te bely en finaal sy rug daarop te draai: “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u” (Luk. 15:18). Sy vader het hom van harte vergewe en hom ook volkome herstel. Hieruit leer ons dat daar beslis genade vir teruggevalle Christene is – selfs hulle wat uit die genade verval en heeltemal van die Here af weggedwaal het om in sonde te gaan leef.

Moenie die fout maak om die verlore seun in sy afgedwaalde toestand salig te verklaar deur te beweer dat hy nooit verlore kan gaan omdat hy altyd ‘n seun van sy vader bly nie. Die vader self het aan die oudste seun gesê: “…hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind” (Luk. 15:32). Die seun was nie in sy afgedwaalde toestand fisies dood nie, maar geestelik. Hy is as “verlore” en “dood” beskryf. Hy het egter uit die dood ontwaak.

Die Griekse woord vir “weer lewendig geword” (anazao) beteken letterlik “herleef” of “opnuut lewendig geword.” Die Strong's woordelys gee die betekenis aan as: “to recover life; live again; revive.” Hierdie woord kan net betrekking hê op iemand wat eers geleef het, toe gesterf en daarna weer herleef het. Aanvanklik het die seun geleef, toe in sy sondes gesterf terwyl hy in 'n geestelik verlore toestand verval het, en daarna is hy geestelik weer lewend gemaak.

Sommige mense keer egter nie uit hulle afgedwaalde toestand terug nie en gaan verlore. Dit het met Saul gebeur. Die Bybel sê duidelik: "Die Gees van die Here het van Saul gewyk (1 Sam. 16:14; kyk ook 1 Sam. 18:12). Kort voor sy dood het Saul ‘n towerheks geraadpleeg om die gees van Samuel op te roep. Saul het gesê: “Ek is baie benoud, want die Filistyne voer teen my oorlog, en God het van my gewyk en antwoord my nie langer nie…” Samuel se antwoord hierop was: “Waarom raadpleeg jy my terwyl die Here van jou gewyk en jou vyand geword het?” (1 Sam. 28:15-16).

In die Nuwe Testament lees ons van Demas wat teruggeval het. Daar word nêrens gemeld of hy weer na die Here teruggekeer het nie. Paulus sê net: “Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het” (2 Tim. 4:10). Sy probleem was dieselfde as dié van die verlore seun, wat agter die plesier en dinge van die wêreld aangegaan het.

Ons geestelike lojaliteit en morele lewe kán verander, afhangende daarvan of ons navolgers van die koninkryk van die lig of die koninkryk van die duisternis is. Die ongeredde Fariseërs, priesters en skrifgeleerdes het die duiwel as vader gehad (Joh. 8:44). Baie van hulle het egter later deur wedergeboorte gehoorsaam geword aan die geloof en dus kinders van God geword (Hand. 6:7). Sulke mense behou nogtans hulle vrye wil. Hulle kan aan versoekings toegee, deur onkunde die leerstellings van duiwels aanhang, en as gevolg daarvan terugval tot op ‘n punt waar hulle van die geloof afvallig raak; dan sal hulle geestelik dood en verlore wees (1 Tim. 4:1; Gal. 5:4). Let daarop dat net gelowiges van die geloof afvallig kan raak. Daardeur verloor hulle hul ewige sekerheid wat hulle net in Christus het solank hulle in Hom bly. Ons band met Hom hoef nie verbreek te word nie, maar dit kán deur onsself verbreek word.

‘n Gebed van verootmoediging

Dit is ‘n vreugdevolle gebeurtenis wanneer ‘n teruggevallene op vermanings en waarskuwings reageer om sy sondes te bely en na die Here terug te keer. Koning Dawid het geestelik teruggeval toe hy owerspel en moord gepleeg het. Hy het homself egter dadelik daarna met vas en gebede voor die Here verootmoedig en sy sondes bely: “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë… Ontsondig my… dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu… delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer” (Ps. 51:6-15).

Dawid het besef dat daar ‘n besliste moontlikheid was dat die Here sy Heilige Gees van hom af kon wegneem, maar as gevolg van sy berou en bekering het dit nie gebeur nie. God het aan Dawid ook die versekering gegee dat hy nie van sy seun, Salomo, sou wyk soos wat Hy van Saul gewyk het nie: “My goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het” (2 Sam. 7:15). Salomo het wél teruggeval en voor afgode neergebuig nadat hy die Here jare lank gedien het (1 Kon. 11:4-10). Ons kan aanneem dat hy voor sy dood sy sonde bely en na die Here teruggekeer het.

Leerstellige verval

Ernstige waarskuwings word in die Bybel teen leerstellige verval uitgespreek. Mense wat van die waarheid afdwaal, speel in die hand van die duiwel omdat hulle in leuens, halwe waarhede en verdraaide voorstellings van die Bybel glo: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1).

Hier word na verval uit die ware geloof na geloof in valse lerings verwys. Dit behels die verwerping  van die die suiwer leer van verlossing wat op die soendood van die Here Jesus gebaseer is. In ons tyd is daar baie teoloë wat selfs nie meer in die maagdelike geboorte, Messiasskap en Godheid van Jesus glo nie. Deur hierdie en ander soorte kettery gaan die verkondigers daarvan verlore en sleep baie ander mense saam met hulle na die verderf. Petrus verwys na leraars wat aanvanklik gered was (gekoop deur die Here) maar wat vir Christus daarna in kardinale aspekte van sy wese verwerp en verloën. Hulle sal ook ‘n veldtog teen evangeliese Christene voer wat nog die waarheid bely, en hulle sleg maak:

“Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2).

Die ernstigste denkbare waarskuwings word in die Bybel teen sulke valse leraars uitgespreek wat in ‘n stadium die waarheid geken en bely het, en daarna hulle rug daarop draai: “Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal… Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is” (2 Pet. 2:15, 20-21).

Paulus waarsku ‘n hele gemeente wat op die punt gestaan het om geloof in die soendood van Jesus as ongenoegsaam vir redding te beskou. Hulle wou ook die wet van die besnydenis onderhou: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4).

Verandering van God se Woord

Die Here se Woord is ewig (Luk. 21:33), onveranderlik (Deut. 4:2) en absoluut waar (Joh. 17:17). ‘n Persoon wat só aanmatigend is dat hy God se Woord wat Hy deur heilige manne laat opteken het (2 Pet. 1:21; 2 Tim. 3:16) verander, tas daardeur die Here aan wat die bron van alle waarheid is. Selfs al was só ‘n persoon in ‘n stadium ‘n Christen, dan word sy naam uit die boek van die lewe weggeneem: “As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Op. 22:18-19; vgl. Ook. Deut. 4:2).

As ons egter getrou aan die Here en sy Woord bly, sal Hy nooit ons name uit die boek van die lewe wegneem nie: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie” (Op. 3:5). Ongelukkig is nie alle Christene oorwinnaars nie. Sommige van hulle pleeg verraad teen die Here en sy Woord, en buig daardeur weer die knie voor Baäl.

Geestelike hoogverraad

Hoewel die meeste teruggevallenes – ook dié wat uit die genade verval het – weer na die Here kan terugkom en herstel word, is daar tóg diegene wat nooit weer kan terugkom nie. Dit is dié wat geestelike hoogverraad gepleeg het. Hulle het teen hulle Koning en Verlosser verraad gepleeg deur Hom te verloën en sodoende sy koninkryk en verlossingswerk te verwerp. Hulle is dus nie, soos die verlore seun, net deur sonde en wêreldsgesindheid oorkom nie. Hulle het daarby nog uitdruklik die Here belaster, geminag en verwerp.

Let daarop dat geestelike hoogverraad nét deur Christene gepleeg kan word. ‘n Mens móét eers ‘n burger van die koninkryk van die hemele wees voordat jy daarteen in opstand kan kom en jou Koning wat jy gedien het, kan verwerp: “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het… en afvallig geword – om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Heb. 6:4-6).

Hierdie mense verwerp Christus doelbewustelik en maak Hom openlik tot skande. Daardeur kruisig hulle Hom weer en maak self die pad na herstel toe omdat hulle die enigste weg van verlossing verwerp het: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:26-29).

Hierdie persoon is deur die bloed van die Nuwe Testament geheilig – dit is ‘n voldonge feit – maar nogtans vertrap hy die Seun van God, ag die bloed onrein en smaad die Gees van genade. Hierdeur verwerp hy die Middelaar van die Nuwe Testament. Israeliete wat teen Moses, die middelaar van die Ou Testament, hoogverraad gepleeg het, is summier om die lewe gebring. Hoeveel swaarder straf sal hulle nie kry wat doelbewustelik teen Christus hoogverraad pleeg nie!

Paulus het later in sy brief hierdie ernstige waarskuwing aan die Hebreërs herhaal: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir een spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het” (Heb. 12:14-16).

Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary) sê oor dié gedeelte: “Vrede met alle mense, sowel as persoonlike heiligheid, moet met oorgawe gesoek word omdat niemand sonder heiligmaking die Here sal sien nie. Geen sonde kan in God se teenwoordigheid verskyn nie, daarom moet, en sal, die Christene sondeloos wees wanneer hulle voor die Here staan ( vgl. 1 Joh. 3:2). Dié gedagte moet ons aanspoor om hier en nou heilig te leef. Die skrywer mag ook in gedagte gehad het dat ons begrip van God deur die mate van ons heiligheid bepaal word (Matt. 5:8). Dit is ‘n skrikwekkende waarskuwing aan gelowiges dat diegene wat uit die genade van God verval, soos ‘n giftige, bitter wortel kan word en dat hulle ongeloof ook ander mense negatief kan beïnvloed. Hier het die skrywer Deuteronomium 29:18 in gedagte, waar Ou Testamentiese afvalliges met ‘n giftige wortel vergelyk word: ‘Daar [mag] onder julle geen man of vrou of geslag of stam wees wat sy hart vandag van die Here onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wilde als dra nie.’ Só ‘n persoon is goddeloos (heidens en onheilig) soos Esau, Jakob se broer, wie se losse en onheilige karakter hom gelei het om sy erfreg as die oudste seun vir die tydelike voordeel van ‘n enkele ete verkoop het. Die lesers word hierdeur gewaarsku om nie tydelike plesier na te jaag en daardeur hulle ewige erfreg te verloor nie. Indien sommige mense dit doen, sal hulle uiteindelik berou oor hierdie dwase stap hê, maar vind dat hulle, soos Esau, die voordele van hulle geestelike erfenis onherroeplik verloor het. Dit sal natuurlik gebeur as ‘n persoon sy Christelike ondervinding in ‘n toestand van goddeloosheid beëindig – iets waarteen die skrywer dikwels gewaarsku het.”

Laster teen die Heilige Gees is ook ‘n onvergeeflike sonde, omdat ‘n persoon die enigste Gees wat hom van sy sonde kan oortuig, belaster en verdryf: “Elke sonde en lastering sal die mens vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie” (Matt. 12:31). Mense wat die Gees weerstaan, belaster en verdryf het, sal daarna nooit weer onder sonde-oortuiging kan kom nie, en dus ook nie tot bekering en redding nie.

Een maal gered, altyd gered?

In die lig van wat hierbo gesê is, wat dan van die Calvinistiese opvatting van “een maal gered, altyd gered” (m.a.w. ewige sekerheid)? Hierdie leer steun swaar op die volgende woorde van die Here Jesus: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (Joh. 10:27-28).

Die versekering wat in hierdie teks gegee word, is dat geen eksterne mag jou uit die hand van die Here kan ruk nie. Die Here sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee sodat ons dit sal kan verdra (1 Kor. 10:13). Die duiwel kan ons nie uit die hand van die Here ruk as ons nie doelbewustelik met hom saamwerk nie. Ons kan egter self, deur eie keuse, uit die hand van die Here gaan.

Dit vestig die aandag op die voorwaarde van hierdie belofte: ons moet na sy stem luister en Hom volg (Joh. 10:27). As ons nie meer na sy stem luister nie en van Hom af wegdwaal, het ons beslis probleme! Hierdie beginsel word ook in Johannes 15 bevestig: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie… As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Joh. 15:4,6).

As ons in Hom bly, soos Hy in ons, dan sal ons nooit verlore kan gaan nie. Wat gebeur egter as ons self ontrou teenoor die Here word en van die waarheid van sy Woord afvallig raak? Dan kán ons veragter in die genade (geestelik verdroog), selfs úít die genade verval (van die wynstok afgesny word) en uiteindelik verlore gaan (in die vuur gegooi word). Ons het nog altyd ‘n vrye wil, daarom kan ons verkeerde besluite neem en sondig. Die gevolge daarvan sal ons moet dra.

Baie van die heilige engele in die hemel het gesondig en daardeur tot ‘n val gekom (2 Pet. 2:4). Omdat hulle doelbewustelik teen die Here gerebelleer het, kan hulle – saam met hulle leier, Lucifer – nooit weer herstel word nie. Hulle is vir ewig gevalle engele.

Net so het die mens ook die vermoë om teen die Here te draai. Hy kan die Heilige Gees bedroef, weerstaan en selfs uitblus (Hand. 7:51; Ef. 4:30; 1 Thess. 5:19). Die onverganklike saad waardeur hy gered is, kan deur die dorings en distels van sonde in sy lewe verstik word. Wanneer dít gebeur, is hy nie deur iemand anders se toedoen uit die hand van die Here geruk nie. Hy het self uitgegaan en vir die duiwel in sy lewe plek gegee.

Daar rus dus ‘n duidelike verpligting op elke Christen om tot die einde toe op die pad van die Here te volhard en nie daarvan af te draai nie: “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14; vgl. Heb. 3:6). Paulus het vir Timótheus vermaan om aan die geloof en ‘n goeie gewete vas te hou, en bygevoeg: “Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Dit is glad nie nodig om mislei te word en geestelik te ontspoor nie, maar dan moet ons naby aan die Here Jesus bly en sy Woord bewaar. As ons die weg van die waarheid verlaat, dan is struikeling en geestelike skipbreuk ons voorland. Jesus Christus is magtig om ons van struikeling te bewaar en sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel as ons Hom hiervoor vertrou (Judas 1:24).

‘n Mens kan nie leef soos jy wil, selfs in die sonde en ongeloof van Hebreërs 3:12-13 verval, en jouself mislei deur te dink dat jy nog steeds hemel toe gaan nie! Jy moet tot die einde toe onwrikbaar aan die Here Jesus en sy Woord vashou. Die volharding van die heiliges vereis dat hulle die Here elke dag nougeset sal volg. Hulle moet kragtig word in die Here en in die krag van sy sterkte, en ‘n geestelike wapenrusting aantrek sodat hulle staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-11). As hulle dit nie doen nie en in hulle waaksaamheid verslap, sal die duiwel hulle met sy listige strategieë vang.

Wanneer daar van die broeders is wat onder die invloed van valse leerstellings is, moet hulle in sagmoedigheid tereggewys word sodat hulle “weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen” (2 Tim. 2:26). Ewige sekerheid en voortgesette verlossing van Satan se misleiding is net die deel van diegene wat in Christus bly en in die lig van die Woord van die waarheid wandel.

Die standpunt van Arthur Pink

‘n Calvinis, Arthur Pink, het die volgende oor Johannes 10:27-28 gesê, wat deur baie van sy mede-Calviniste as ‘n waarborg geneem word dat geen Christen ooit weer verlore kan gaan nie, al doen hy ook wat: “Daar is ‘n dodelike en verwerplike dwaling wat vandag algemeen verkondig word, naamlik dat ‘n sondaar wat Christus aangeneem het, nooit verlore kan gaan nie, ongeag hoe hy daarna leef. Dit is ‘n duiwelse leuen omdat dit direk in stryd met die Woord van die Waarheid is. Iets meer as blote geloof in Christus is nodig as mens seker wil wees dat jy eendag in die hemel uitkom. ‘As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels’ (Joh. 8:31). ‘My skape luister na my stem… en hulle volg My… en niemand sal hulle uit my hand ruk nie’ (Joh. 10:27-28).

“Die belofte van vers 28 is net van toepassing op hulle wat aan die voorwaardes van vers 27 voldoen. Dit is hulle wat na die Here Jesus se stem luister, hulleself aan die gesag daarvan onderwerp en Hom voortdurend volg. Dit veronderstel voortgesette toewyding: ‘…as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie’ (Kol. 1:23). Ons moet bid om in die genade van Christus bewaar te word. ‘Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou’ (Heb. 10:23). Die Here is getrou, maar ons kan ontrou word; dit is waarom ons tot volharding op die pad van die Here aangemoedig en vermaan word” (einde van aanhaling).

Arthur Pink is geweldig deur ander Calviniste gekritiseer omdat hy die leer van die volharding van die heiliges só beskryf het dat dit die verantwoordelikheid op die gelowiges geplaas het om die Here Jesus getrou, tot die einde toe, te volg. Volgens hulle sal alle Christen hemel toe gaan, al het hulle ook in ‘n sondige toestand teruggeval. Die Calvinistiese leer is op die onbybelse aanname gebaseer dat toegerekende geregtigheid jou van alle menslike pogings onthef om ‘n heilige en waardige lewe te lei. Paulus het egter gesê dat die feit dat hy as ‘n Christen by die geestelike wedloop betrokke is, geen waarborg is dat hy as ‘n oorwinnaar sal eindig nie. Hy het die moontlikheid besef dat selfs ook hy gediskwalifiseer kan word: “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27).

Geestelike verval weens misleiding

Die ewige verlossing wat die Here Jesus aan ons bied, is voorwaardelik. Ons moet tot bekering kom, ons sonde bely en die Here Jesus as Verlosser aanneem om weergebore kinders van God te kan word. Ná ons redding moet ons heilige, toegewyde lewens lei en altyd getrou aan Christus bly. Indien ons nie op die weg van heiligmaking en dissipelskap volhard nie, is daar ‘n besliste gevaar dat ons deur Satan mislei kan word en as teruggevallenes eindig. Neem die volgende voorbeelde in ag:

Korinte: Paulus was baie teleurgesteld met die vleeslike lidmate van die gemeente in Korinte (1 Kor. 3:1-3), wat geen onderskeidingsvermoë gehad het nie en maklik deur Satan mislei is: “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:2-4). Valse weergawes van die evangelie van Jesus Christus is onder die invloed van verleidende geeste verkondig, en die meeste van die gemeentelewe het dit naïewelik aanvaar.

Éfese: Die Efésiërs het ernstige waarskuwings van Paulus ontvang, maar klaarblyklik nie daarop ag geslaan nie: “Want ek weer dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:29-30). ‘n Geslag later was die hele gemeente teruggevalle en moes deur Christus tot bekering opgeroep word (Op. 2:4-5).

Galásië: Die Galásiërs het in ‘n wettiese godsdiens teruggeval waarin Christus se versoeningswerk aan die kruis nie as genoegsaam vir redding beskou is nie. Paulus het hulle sterk vermaan omdat hulle geestelik agteruitgegaan het: “O onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Gal. 3:1-3). Hulle het as teruggevalle, vleeslike Christene geëindig, wat ‘n duidelike risiko geloop het om van die genade te verval (Gal. 5:4).

Die Hebreërs. Baie van die Hebreeuse Christene het hulle geloof as gevolg van sonde verloor (Heb. 3:12-13). Ander was naamchristene sonder ‘n ware geloof omdat hulle nie van harte in die evangelie geglo het nie (Heb. 4:1-2). Die Messias het hulle as skynheiliges sonder veranderde harte en ‘n lewende verhouding met God beskryf, omdat hulle net hulle godsdienstige oorlewerings onderhou het (Matt. 15:7-9; Mark. 7:8-9). Selfs diegene onder hulle wat waarlik gered was, het geestelik gestagneer en teruggeval omdat daar geen geestelike groei by hulle was nie (Heb. 5:12-13). As gevolg hiervan het hulle onseker van hulle redding gebly, en telkens weer tot bekering gekom sonder om daarna geestelik te groei (Heb. 6:1).

Pergamus: Die kompromie wat die kerk in Pergamus met die goddelose wêreld gemaak het, het noodwendig na dislojaliteit en ongeloof onder die lidmate gelei. Die Here Jesus verwys na hierdie kompromie “die leer van Bileam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer” (Op. 2:14). Baie van die moderne kerke maak ook met die nie-Christelike gelowe kompromie, en laat immoraliteit oogluikend toe.

Thiatire: Die kerk in Thiatire is deur valse leerstellings en seksuele immoraliteit gekenmerk. Baie van die moderne kerke is net so skuldig aan hierdie sondes, aangesien valse leerstellings geweldige steun geniet, terwyl seksuele  immoraliteit (insluitend homoseksualiteit) openlik verdra en selfs as normaal aanvaar word. Kerke wat hierdie eienskappe vertoon, het só ver teruggeval dat hulle selfs uit die genade verval het. Hulle sal die wegraping misloop en as navolgers van die Antichris in die verdrukking eindig (Op. 2:20-22).

Sardis: Die gemeente in Sardis het net ‘n gedaante van godsaligheid gehad, waarvan hulle hulself moes bekeer. Die Here Jesus het gesê: “jy het die naam dat jy leef, en jy is dood” (Op. 3:1). Hulle het niks daarvan geweet dat hulle deur die Heilige Gees gewederbaar en vervul moes word nie.

Laodicéa:

Die selfvoldane en louwarm gemeente van Laodicéa is ook tipies van baie van die eindtydse kerke. Tevrede met slegs 'n uiterlike gedaante van godsaligheid gaan hulle voort op die weg van vormgodsdiens, en is nie eers bewus van hulle geestelike armoede nie. Ten spyte van al die welvaart en goed georganiseerde aktiwiteite word Christus nie werklik geken of gedien nie. Die Here Jesus onttrek Homself van só 'n stelsel van mensgemaakte godsdiens wat op intellektuele argumente, morele beredenering en uiterlike vertoon ingestel is (Op. 3:16-17; kyk ook 1 Tim 6:7-12).

Die rykdom wat so ‘n opvallende kenmerk van Laodicese kerk eis, behels meer as net materiële besittings. Dit verwys ook na die moderne mens se intellektuele prestasies en sy voorliefde vir sielkundige oplossings vir sy probleme. Die selfvoldane en selfvergenoegde mens erken nie geredelik sy afhanklikheid van God nie. Hy ontwyk die kruis en die bloed van Christus wat vir die versoening van ons sondes gestort is. “Laodicea” beteken “menseregte” en weerspieël duidelik die humanistiese karakter van hierdie kerk. Die kerk as instituut word deur die mens beheer en gebruik om ‘n meer humanistiese, mens-gesentreerde samelewing te skep. Die gevolg is dat dit slegs ‘n gedaante van godsaligheid het. Die mens word sy eie god en hy verkondig ‘n voorspoedsevangelie wat op materiële rykdom en humanistiese prestasies gebaseer is.

Laodicéa beeld die rasionele maar agnostiese mens sonder geloof uit. Hy redeneer alles met sy verstand uit, gevolglik bestaan sy godsdiens net uit ‘n akademiese kennis van die Bybel. Die werklike geloofsaanvaarding van die Here se beloftes oor wedergeboorte en heiligmaking ken hy nie. Met sy allegoriese en relativistiese interpretasie van die Bybel omseil hy al die eise van die Skrif, en leer sy volgelinge om dieselfde te doen. Hierdie benadering lei na die vorming van ‘n naamchristendom en kerke wat hulleself slegs volgens menslike kriteria beoordeel en ook as baie goed beskou. Selfmisleiding van hierdie aard het baie ernstige gevolge omdat hulle eiegeregtigheid nie na wedergeboorte lei nie, en hulle dus nie aan die Here behoort nie.

Waarskuwings aan nominale en teruggevalle kerke

Die Here Jesus rig die volgende waarskuwings aan nominale en teruggevalle kerke:

  • Die kandelaar van vormgodsdienstige gemeentes sal deur Hom weggeneem word, wat beteken dat Hy sy Gees aan hulle sal onttrek (Op. 2:5)
    • Kerke wat met die wêreld kompromie maak, sal deur die Woord van die Here geoordeel word omdat hulle daaraan ontrou geword het (Op. 2:16).
    • Afvallige kerke wat leerstellings van duiwels aanvaar en verkondig, sal in die groot verdrukking beland as hulle hul nie bekeer nie (Op. 2:22).
    • Die Here Jesus sê Hy onttrek Homself ook heeltemal aan kerke en gemeentes wat deur geestelike louheid weens materialisme en selfregverdiging gekenmerk word (Op. 3:16-17).

Ware Christene moet hulle taak op aarde vervul terwyl hulle aanvegtinge verduur van ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê, en ook van valse kerke wat net ‘n gedaante van godsaligheid het. Dit is ‘n bomenslike taak wat nie sonder die genadige instaatstelling en bekragtiging deur die Heilige Gees uitgevoer kan word nie, en ook nie sonder ‘n ingesteldheid van volharding op die pad van die Here tot die einde toe nie. Ten spyte van hulle min krag in hierdie bedeling (Op. 3:8), sal sy getroue dissipels geestelik met manna uit die hemel gevoed en vir die stryd versterk word.

Ons moet nooit moedeloos raak en onsself van “die goeie stryd van die geloof” onttrek nie (1 Tim. 6:12). Volg die voorbeeld van die Here Jesus: “Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:3-4).

“Want julle het lydsaamheid nodig om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (Heb. 10:36-39).

Is jy ‘n oorwinnaar wat op die pad van die Here volhard? Jesus Christus het gesê: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11). In die lig van van sy skielike koms word ons vermaan om vas te hou wat ons het, sodat die sielevyand dit nie van ons roof nie. Hy wat oorwin, sal ‘n pilaar in die tempel van God wees (Op. 3:12), wat simbolies van die oorwinnaars se permanente plek in die hemel.

Voordat Johannes na Patmos verban is, het hy gelowiges teen terugval en die verlies aan hulle beloning in die hemel gewaarsku: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang” (2 Joh. v.8). Ons moet valse leerstellings en morele korrupsie suksesvol weerstaan as ons getrou aan die leer van Christus wil bly.

“Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun” (2 Joh. v.9). Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary) sê die volgende oor dié teks: “Hierdie woorde impliseer duidelik dat die apostel na geloofsverval verwys onder diegene wat in ‘n stadium geglo het. Die uitdrukking “bly in” (Grieks meno) word 23 keer in Johannes se eerste sendbrief gebruik, en verwys na die lewe wat voortdurend in Christus bly (“the abiding life”). Iemand wat nie in iets bly nie, was duidelik vroeër in dit gewees. Die Nuwe Testamentiese skrywers was realisties oor die moontlikheid dat ware Christene die slagoffers van dwaalleerstellings kan word, en het dikwels teen dit gewaarsku, veral in die boek Hebreërs. Johannes het pas sy lesers teen die moontlike verlies aan loon gewaarsku (v.8). Hulle word nou gewaarsku om nie buite die grense van die gesonde leer te beweeg nie, maar om in die leer van Christus te bly en daarin te volhard. Wanneer ‘n persoon van die waarheid afwyk, dan laat hy God agter, want Hy is nie met só een nie. Wat hierdie persoon doen, doen hy sonder die Here.”

Marginale Christene

Hoe moet ‘n mens teen die moontlikheid van terugval waak? Vleeslikheid is die teëlaarde vir geestelike veragtering. As jy nie onder die beheer van die Gees lewe nie, dan kom jy noodwendig weer onder die beheer van die vlees en word ‘n marginale Christen. Geestelike stagnasie tree in jou lewe in, want die ongekruisigde vlees blokkeer enige vorm van geestelike groei: “…want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).

Die Galásiërs wat as gemeente goed begin het, het na ‘n toestand van vleeslikheid teruggeval (Gal. 3:1-3). Die Korinthiërs het ook in só ‘n toestand verval (1 Kor. 3:1-3). Die oplossing vir hierdie probleem is duidelik: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).

Waarom is dit so gevaarlik om in ‘n vleeslike (teruggevalle) toestand te beland? “…as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Rom. 8:13). Daar is net een lewe vir ‘n Christen, en dit is dié van toenemende heiligmaking. Dit behels uitdruklik die aflegging en kruisiging van die vleeslike natuur wat ons na ons sondige verlede wil terugtrek:

“Dit sê en betuig ek in die Here… dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikheid van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:17,22-24).

Christene wat nie hulleself (die ou natuur) verloën, hulle kruis opneem waaraan hulle vir die wêreld gekruisig is en die wêreld vir hulle nie, kan nie ware dissipels van die Here Jesus wees nie (Luk. 14:27; Gal. 6:14). Hulle is deur hulle eie toedoen kandidate vir terugval. Handel dus met dié dinge wat vir jou probleme kan skep: lê dit af en beklee jou in die plek daarvan meer volledig met die Here Jesus (Kol. 3:1-17).

Dien die Here met jou hele hart, en moet nooit omkyk of omdraai nadat jy jou hand aan die ploeg geslaan het nie (Luk. 9:62). Waak ook gedurig teen geestelike misleiding. Die Here Jesus se eerste waarskuwing in sy profetiese rede oor die eindtyd is: “Pas op dat niemand julle mislei nie” (Matt. 24:4). Ons word telkens gewaarsku dat geestelike misleiding in die eindtyd na grootskaalse afvalligheid in die Christenwêreld sal lei. Baie kerke en individue sal deur die sataniese gees van misleiding beïnvloed en selfs totaal oorheers word (Matt. 24:24; 2 Kor. 11:3-4,13-15; 2 Thess. 2:3,9-10; 1 Tim. 4:1; 2 Tim. 4:3-4).

DL Moody 32