Print

Parlement vir Wêreldgodsdienste Streef na Universele Versoening

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Die Parlement vir Wêreldgodsdienste is ‘n multigodsdienstige ekumeniese liggaam wat na universele versoening en eenwording in die nuwe millennium streef.

Die Parlement vir Wêreldgodsdienste (PWG) het sy derde internasionale konferensie van 1 tot 8 Desember 1999 in Kaapstad gehou. In 1893 is die eerste konferensie van hierdie parlement in Chicago in Amerika gehou. Toe het 400 afgevaardigdes van 41 gelowe met mekaar beraadslaag. 100 jaar later, in 1993, is die tweede konferensoe ook in Chicago gehou. Toe het meer as 7000 lede van 250 gelowe die konferensie bygewoon. Ses jaar later, in Desember 1999, is die derde konferensie in Kaapstad gehou.

As een van die mees verteenwoordigende multigodsdienstige organisasies in die wêreld, sien die PWG dit as sy taak om die godsdienstige koers vir die volgende millennium te help bepaal. Die wese hiervan is onderlinge respek, harmonie en samewerking tussen alle gelowe, met geleidelike samegroeiing as die einddoelwit.

Oor die keuse van Kaapstad vir die aanbieding van die konferensie, word gesê dat dit gedoen is omdat Suid-Afrika die beste hoop vir die toekoms simboliseer. Hierdie land het volgens die PWG ‘n buitengewone morele en geestelike oorwinning oor sy verlede van isolasie, konflik en oorheersing deur een godsdiens behaal. Dit maak van Suid-Afrika ‘n inspirerende gasheer vir ‘n intergeloofskonferensie.

‘n Nuwe begin

Oor die uitdagings wat die nuwe millennium aan ons bied, sê Jane Kennedy, ‘n segspersoon van die PWG in Kaapstad, die volgende in die tydskrif Odyssey:

“Die konferensie van die PWG is waarlik ‘n besondere geleentheid, veral vir diegene wat hulleself – ongeag hulle velkleur – as Afrikane beskou. Ons, in hierdie land, het deur die donker nag van ons siele gekom en staan nou op die vars braakgrond van oneindige moontlikhede met geen reëls, geen grense en geen beperkings nie. Van nou af is dit die verantwoordelikheid van elkeen van ons om ons eie toekoms uit te werk, ons eie bestemming te bepaal en ons eie reënbooggeaardheid in al sy wonderlikheid te ontdek.”

Die braakgrond waarop die soekers na ‘n nuwe toekoms en ‘n nuwe godsdienstige ervaring hulleself bevind, spoor hulle aan om ‘n sprong in die duister te doen. Hulle wil die nuwe toekoms met sy reënbooggodsdiens betree en kyk watter ontdekkings daar vir hulle is om te maak. In hierdie soektog is daar geen reëls, beperkings of grense nie. Elkeen kan sy eie koers volg en met enige geloof eksperimenteer net soos hy wil. Alles is in orde, want ons is volgens die PWG almal kinders van dieselfde skeppergod. Ons dien hom net op verskillende maniere.

Een van die sprekers op die konferensie, Soozi Holbeche, verwys ook na die oorsteek van die grens na die onbekende. Sy erken dat dit ‘n sprong in die duister is, omdat mense nie regtig weet wat op hulle wag nie. Sy meen egter dat ‘n persoon se hoër self hom op hierdie onbekende reis sal lei. Sy sê:

“Ons wat die oorgang na die 21ste eeu maak, steek die grens tussen die bekende en die onbekende oor. Ons betree ‘n nuwe ruimte van wonderwerke en betowerende ervarings – ‘n onbeskryfde gebied sonder kaarte en rigtingwysers, waar enigiets moontlik is. Selfs al weet ons nie bewustelik hoe om die volgende stap te neem nie, dan weet ons siel, of hoër self, presies wie ons is en wat ons hier moet doen. Ons is gebore met al die antwoorde, kragte en talante binne-in ons om ons gekose taak te kan uitvoer.”

Doelstellings

Gedurende die konferensie het honderde godsdienstige en geestelike leiers, akademici en aktiviste van die wêreld se godsdienste saamgekom om die relevansie van godsdiens en geestelikheid vir vandag se wêreld te bespreek. Hulle besluite is daarna oor ‘n breë front met leiersinstellings in die samelewing opgeneem om hulle saak verder te bevorder.

‘n Dokument (A call to our guiding institutions – ‘n Oproep aan ons leiersinstellings) is op die konferensie aan deelnemers gegee. Dit is as ‘n riglyn vir die kommunikering van die waarde van ‘n multigodsdienstige oriëntasie met alle invloedryke instellings in die samelewing gebruik. Hierdie instellings sluit die volgende in: Kerke en godsdiensgroepe, regerings, die georganiseerde landbou, arbeid, handel en nywerheid, onderwys, die kunste, media, wetenskap, mediese en siviele organisasies, asook multinasionale organisasies.

Die oproep aan al hierdie instellings was ‘n uitnodiging vir kreatiewe betrokkenheid. Daar moet nuwe kanale vir kommunikasie, dialoog en samewerking tussen godsdienstige gemeenskappe en leiersinstellings in die samelewing geskep word. Die multigodsdienstige oriëntasie moet sodoende die hele samelewing indring en deursuur.

Op die vorige konferensie van die PWG in 1993 in Chicago, is ‘n dokument – Towards a Global Ethic – uitgereik. Hierin is al die etiese en morele norme wat die verskillende godsdienste en geloofsgroepe met mekaar in gemeen het, uiteengesit. Dit was die begin van ‘n proses van hande vat na binne. Nou moet aksie egter na buite geneem word sodat alle gemeenskappe in ‘n mistiese wêreldbroederskap kan opgaan waarin almal mekaar erken, aanvaar, respekteer, liefhet, by mekaar leer en ook godsdienstig assosieer. Geen regering of ander belangegroep moet besluite neem sonder om die verskillende godsdiensleiers te ken nie.

Konferensietemas

Op die konferensie is bykans 800 lesings, werkswinkels en simposia aangebied, waaronder die volgende temas baie prominent was:

·       Vrede en eenheid in die nuwe millennium.

·       Die rol van godsdiens in die Verenigde Nasies.

·       Vooroueraanbidding in Afrika.

·       Die sangoma: genesing in die Afrika tradisie.

·       Danse en sang vir vrede.

·       Die funksionele rol van heksery en towery.

·       Verering van die gees van die aarde.

·       Die rol van die ghoeroe in die Indiese gelowe.

·       Geestelikheid onder die Amerikaanse Indiane.

·       Islam en wêreldvrede.

·       Zoroastrisme se konsep oor die heilige aarde.

·       Die Bahai geloof: modelle vir eenheid.

·       Joga en meditasie.

·       Joodse mistisisme.

·       Islam en die komende wêreldmessias.

·       Antieke wysheid en die moderne wetenskap.

·       Geestelike sielkunde.

·       Boeddha en Christus.

·       Eer aan die Groot Siel: Gandhi se relevansie vir die nuwe millennium.

·       Die menslike brein: die plek waar die wetenskap en godsdiens mekaar ontmoet.

·       Genesing van ons siele: ‘n intergeloofsbenadering.

·       Hoe die gedeelde wysheid van Boeddhiste en Christene menslike waardes in die moderne samelewing kan vestig.

·       Moslem-, Christen- en Joodse dialoog.

·       Pous Johannes Paulus se siening oor Boeddhisme, Islam en Judaïsme.

·       Afrika godsdienste en die Abrahamitiese tradisies (Judaïsme, die Christendom en Islam).

·       Kan ‘n ander godsdiens ‘n bydrae tot ‘n persoon se geloof lewer?

·       Sri Ramakrishna se strewe na die goddelike.

·       Strategieë om ‘n regverdige wêreld te skep.

·       Die waarheids- en versoeningservaring in Suid-Afrika.

·       Die wêreld as ‘een plek’ – globalisering en internasionale etiek.

·       Menslike waardes en menseregte in die 21ste eeu.

·       Geestelikheid en die versaking van geweld.

·       Die toekoms van internasionale intergeloofsorganisasies.

·       Geestelike verligting in die nuwe millennium – die pad van lig en van die Groot Meester.

Onder die sprekers wat in Kaapstad opgetree het, is daar 300 godsdienstige en geestelike leiers. Die bekendstes van hulle is die Dalai Lama van Tibet, die Koreaanse  Zen-Boeddhistiese meester, Seung Sahn, die Taoïstiese tai chi meester, Chungliang Al Huang, en Credo Mutwa van Suid-Afrika.

Afrika renaissance

Die erkenning wat aan die Afrika gelowe gegee word, asook die feit dat die konferensie in Afrika gehou is, word as deel van die kulturele en geestelike ontwaking van Afrika gesien. Een van die mededirekteure van die PWG in Kaapstad, Gordon Oliver, het gesê:

“As gevolg van die verbasende politieke veranderinge wat ons gemaak het, het die internasionale godsdienstige gemeenskap besluit om Suid-Afrika te omhels deur die 1999 konferensie van die PWG hier aan te bied… Die Parlement is ‘n belangrike instrument om president Mbeki se visie van die Afrika renaissance te help verwesenlik – ‘n droom van ‘n nuwe Afrika wat op ‘n trotse wyse sy eie hart en gees aan die wêreld kan vertoon. Daar is dalk geen beter plek vir die laaste groot geestelike byeenkoms van die 20ste eeu nie. Dit is ‘n tyd van genesing, die bou van brûe, en hertoewyding aan die tydbeproefde morele waardes wat alle godsdienstige tradisies rugsteun. Dit is ook ‘n tyd vir bepeinsing, leer, deel in mekaar se tradisies en groei…”

‘n Ander mededirekteur van die PWG, Afrika Msimang, het in die PWG se nuusbrief “Awakening the Spirit – Vukani!” die volgende oor die konferensie gesê:

“Desember 1999 sal ‘n wonderlike nuwe era in Afrika se intergeloofsbeweging inlui… Die tydsberekening van hierdie historiese byeenkoms kan nie méér gepas wees nie. Dit vind aan die einde van ‘n millennium plaas waarin Afrika stelselmatig van sy kulturele en geestelike identiteit beroof is. Gedurende die lang tyd van koloniale onderdrukking moes hierdie kontinent in die duister rondtas, maar kan nou weer sy ou geestelike erfenis herontdek.

“Afrika is in ‘n transformasie en kritiese selfbeoordeling in die soeke na identiteit. Die tyd het vir sy mense aangebreek om te onthou en te verstaan wie hulle is en waar hulle vandaan kom, sodat hulle ‘n beter visie vir die pad vorentoe kan hê. Terwyl dit ‘n veeleisende tyd is waarin ons is, moet ons onthou dat die moeilikste dae agter ons lê. Ja, ‘n mens word moeg vir die stryd, die teistering deur armoede, siekte en ongeletterdheid waaraan ons mense steeds op ‘n daaglike basis onderworpe is. Soms is mens onder die versoeking om moed op te gee, maar ek word geïnspireer deur die voorbeeld van ons ouers en van die vorige geslagte om moedeloosheid te oorkom en oor die onmeetlike lyding van die verlede te oorwin. Dit gee aan ons hernude geesteskrag om steeds aan te hou om vorentoe te beweeg.

“Die 1999 Parlement vir Wêreldgodsdienste beloof om ‘n groot geleentheid vir die wedergeboorte van Afrika en die hele wêreld te wees… Kom neem deel aan hierdie reis na vrede, lig en hoop.”

Een van die sprekers wat die tradisionele Afrika geloof toegelig het, is prof. Kwesi Kwaa Prah van die Sentrum vir Gevorderde Afrikastudies in Plumstead. Hy het gesê:

“Ek is deur Afrika Msimang gevra om as segsman vir die tradisionele Afrika geloof op te tree. Ek is ‘n voorstaander van die gelyke behandeling van die tradisionele godsdienstige gebruike van Afrika met dié van alle ander kulture in die wêreld. Afrika kan op die vlak van gelyke erkenning ‘n groot bydrae tot die godsdienstige en kulturele waardes van die hele wêreld lewer.”

Gebede en meditasie

Intergeloofsgebede was deel van die aktiwiteite van die PWG. Elke oggend is deur gebede en meditasiesessies uit die ryk verskeidenheid van gelowe begroet. Daar was ook op 23 September ‘n multigodsdienstige gebedsbyeenkoms op Tafelberg, wat as ‘n belangrike planetêre energiesentrum deur die aanhangers van die Nuwe Era Beweging beskou word. Hierdie byeenkoms is deur die slaan van Afrika tromme ingelui, wat ‘n erkende manier is om die voorvadergeeste op te roep.

Intergeloofsversoening

Wanneer daar na die temas van die honderde referate, groepbesprekings en optredes tydens die konferensie gekyk word, is dit baie duidelik dat universele versoening tussen alle gelowe die einddoelwit van die PWG is. Hulle is ook op die propagering van mistiese ervarings deur alle mense ingestel. Die volgende was die belangrikste konferensietemas:

Eenheidsdenke

Die onderliggende eenheid van alle dinge in die kosmos word sterk beklemtoon. Alles is onderdele van ‘n groter, integrerende geheel. Kosmiese eenheid moet deur ‘n proses van heroriëntering en meditasie ontdek word. Alle grense, teenstellende denke en eksklusiwiteit wat hiermee in stryd is, moet uit die weg geruim word. Dit sluit ook die grense tussen verskillende godsdienste in.

Dr. Ram Jee Singh van Indië het die wesenlike eenheid in die skepping in ‘n referaat getiteld: “Die universele mens en universele godsdiens” verduidelik Hy het gesê:

“Elke godsdiens het sy eie missie. In die goddelike raadsplan is daar aan elkeen van hulle spesiale funksies toegeskryf. Die bestaan van die verskillende godsdienste funksioneer dus as ‘n geestelike arbeidsverdeling. Om ons eie godsdiens as meerderwaardig en die ander as minderwaardig te beskou, is ‘n skending van die goddelike wet. Die uitlewing van geestelikheid kan slegs in terme van ‘n suiwer moraliteit, liefde, broederskap, diens en opoffering wees. Daar is ‘n onderlinge eenheid in die leerstellings van alle godsdienste.”

Die Suid-Afrikaans-gebore Leslie Temple-Thurston van die nie-kerklike Core Light bediening in Amerika, het ‘n referaat gelewer getiteld: “Ontwaak tot die eenheid van alle dinge: persoonlikheidstransformasie wat tot ‘n eenheidsbewussyn lei.” Hierin het sy die volgende gesê:

“Geestelike ontwaking bestaan daarin dat ons eenheid met die Oneindige sal ervaar. Innerlike transformasie het ‘n diepgaande invloed op ons verhouding met die uiterlike wêreld. Uiterlike ruimte neem gestalte aan namate ons ons ware natuur ontdek deur innerlike skeidings en polarisasie te genees. Die sluiers van dualisme moet verwyder word. Ons wêreld is ‘n wêreld van teenoorgesteldes, bv. liefde en haat, oorlog en vrede, pyn en plesier, reg en verkeerd, goed en kwaad. Deur die verskillende pole tydens diep meditasie in ons gedagtes en emosies te integreer, sal ons die innerlike eenheid van ‘n transendente werklikheid ervaar. Daarin is alles een, met geen spanning wat deur teenoorgestelde pole geskep word nie.”

‘n Wêreldbroederskap van gelowe

Die ontwykende ideaal van wêreldeenheid sal volgens die PWG net realiseer as die mensdom eers godsdienstig verenig word. Hiervoor moet intensiewe intergeloofskakeling plaasvind sodat brûe gebou en raakpunte van gemeenskaplike belang geïdentifiseer kan word. Een van die samebindende faktore op hierdie terrein is die idee van die universele God van alle gelowe. In terme hiervan word alle mense as skepsele van dieselfde skeppergod gesien, en dus almal godsdienstig verbonde aan mekaar. Inhoud word aan hierdie verbondenheid gegee deur die propagering van ‘n mistiese wêreldbroederskap tussen alle mense. Die familie van wêreldgodsdienste is almal verwant aan en betrokke by mekaar, en dus ook al hulle lede afsonderlik. Godsdienstige eksklusiwiteit het volgens dié siening geen bestaansreg nie.

Rodolfo Don van die Teosofiese Vereniging in die VSA het ‘n referaat oor dié tema gelewer. Hy sê: “Ek soek ‘n skakel tussen alle gelowe as basis vir die broederskap van alle godsdienstige mense.”

Dr. Hum Bui, ‘n Boeddhis van die Cao Dai sentrum in Amerika, beredeneer die eenheid van alle gelowe só:

“’n Deeglike studie van alle godsdienste lei tot die konklusie dat hulle almal een is – nie in hulle historiese akkuraatheid of verskillende gebruike nie, maar in hulle wesenlike boodskap: Die hele mensdom is een groot familie, alle gelowe het uit dieselfde goddelike bron ontspring, alle etiese reëls word in die Goue Reël vervat, goddelikheid kan deur gebed of meditasie ervaar en verwesenlik word, goeie dade word beloon en slegte dade gestraf, ens. Die verhewe doel van Cao Dai is om die hele mensdom deur ‘n gemeenskaplike visie oor die Opperwese te verenig, wat ook al die geringe verskille in geloof insluit, sodat vrede en begrip vir mekaar in die wêreld bevorder kan word.”

‘n Amerikaanse spreker wat homself “Mr. Peace Pilgrim II” noem, besoek op sy reise baie stede en dorpe om sy oortuigings te verkondig. In sy voordrag het hy gesê: “Ons is op verskillende paaie wat ons daartoe sal lei om te ontdek dat daar maar een God is.”

Dr. Honora Finkelstein van die Interfaith Chapel in Amerika se lesing was getiteld: “’n Wêreldbroederskap: die bou van ‘n internet kerk.” Sy is ‘n spreker, geneser en intergeloofsprediker. Die eerste deel van haar lesing bied ‘n oorsig oor intergeloofsgeestelikheid en die belangrikheid daarvan om geestelike diversiteit te respekteer en te ondersteun. Daarna volg ‘n bespreking van internet webruimtes en netwerke oor geestelike onderwerpe. Sy dui aan hoe hierdie bronne aangewend kan word, en ook hoedat die internet in die plek van ‘n fisiese kerk gebruik kan word, of ten minste aanvullend daartoe, teen net ‘n fraksie van die koste.

Terry Provance van die United Church of Christ in die VSA wys op die impak van internasionalisering op ons lewens en geestelikheid. Hy meen dat ekonomiese internasionalisering die weg vir sosiale en godsdienstige internasionalisering baan. Ons leef dus in ‘n wêreld wat toenemend polities, ekonomies, sosiaal en godsdienstig deur globalisering verenig gaan word.

Liefde en meegevoel

Liefde en meegevoel as verstandelike en emosionele ingesteldhede én as geestelike attribute was ‘n oorheersende tema op die konferensie. Dit word as die grondslag vir goeie menseverhoudings en die geheim vir die uitskakeling van alle probleme gesien. Nie net stres en persoonlike konflik kan só opgelos word nie, maar ook spanning en onversoenbare groepsbelange tussen gemeenskappe op die nasionale én internasionale terreine.

Dit was ook die boodskap van die Boeddhistiese Dalai Lama, wat die afsluitingsbyeenkoms van die PWG toegespreek het. Hy is die 14de inkarnasie van die Dalai Lama van Tibet, maar woon al sedert 1959 in ballingskap in Dharamsala, Indië, omdat hy teen die Sjinese oorheersing van Tibet in opstand gekom het.

Die Dalai Lama en sy standpunte is tans baie populêr in Amerika waar multigodsdienstige, humanistiese denke aan die orde van die dag is. Hy beskryf sy lewensfilosofie soos volg:

“Meegevoel is wat ons lewens betekenisvol maak. Dit is die bron van blywende vreugde en blydskap. Ons blydskap is met dié van ander mense verweef. As die gemeenskap ly, dan ly ons ook. Ons kan alles verwerp: godsdiens, ideologie en aangeleerde wysheid. Ons kan egter nie die noodsaaklikheid van liefde en meegevoel ontbeer nie. Dit is my ware godsdiens en eenvoudige geloof. Wat dit betref is daar geen behoefte aan ‘n tempel, ‘n kerk, ‘n moskee of ‘n sinagoge nie, en geen behoefte aan ‘n ingewikkelde filosofie of dogma nie. My eie hart en gees is die tempel. My leerstelling is meegevoel en liefde vir almal, ongeag wie of wat hulle is.

“So lank as wat ons hierdie beginsels daagliks uitleef, ongeag of ons in Boeddha, in God, in enige ander godsdiens of in geen godsdiens glo nie, is daar geen twyfel dat ons gelukkig sal wees nie.”

Ten spyte van sy intergeloofsoriëntasie is die Dalai Lama ‘n toegewyde Boeddhis wat twee ure elke oggend mediteer. Hy glo ook dat hy as die 15de inkarnasie van die Dalai Lama sal terugkeer om sy stryd vir die bevryding van Tibet in ballingskap voort te sit.

Zoroastrisme as moedergodsdiens

Keki R. Bhote, ‘n Zoroastris uit Amerika, se referaat was getiteld: “Die groot bydrae van Zoroastrisme tot die godsdienste van die wêreld.” Sy betoog was basies die volgende:

“Zoroastrisme, as die moeder van al die monoteïstiese godsdienste, is die ekumeniese band wat alle godsdiens saambind. Zarathushtra se leerstellings, bekend as die Gatha’s van die Profeet, het hulle weg na Judaïsme, en deur Judaïsme na die Christendom gevind.”

Nouer assosiasie met die aarde

Dr. Amy Beare van die Stigting vir ‘n Wêreldgemeenskap in die VSA, het ‘n werkswinkel aangebied waarin deelnemers in staat gestel is om hulle interaksie met die aarde as ‘n lewende sisteem waarvan alle lewe afhanklik is, te formuleer.

Annelie Franken van Egipte het die sekem ritueel vir die grond verduidelik, met die oog op bio-dinamiese landbou. Sekem is ‘n ritueel waarin die mens, die aarde, die wetenskap en religie mekaar ontmoet.

Miriam Neal, ‘n unitariese universalis uit Amerika, sê dat stedelinge en nie-inheemse mense se gebroke verhouding met die aarde herstel moet word. Sy verduidelik dit só:

“Die meeste nie-inheemse mense het die vermoë verloor om te leef op ‘n wyse waarin die eenheid van alle lewe erken word. Ons het die rituele en seremonies vergeet wat ons gehelp het om met die ritmes van die natuur te sinchroniseer. Deur dit te vergeet en na te laat, het ons byna ons planeet vernietig en ook ons geestelike erfenis laat verdwyn. Die wysheid van inheemse mense wat naby aan die natuur leef, moet herontdek word sodat harmonie tussen die mens en sy omgewing herstel kan word.”

Dr. Sadhvishry Shilapiji van die Instituut vir Djainologie in Engeland, het twee lesings gelewer. Die eerste een was getiteld: “Die krag van ons eie gedagtes.” Hy sê: “Die hele wêreld is deur ons eie gedagtes geskep. Deur te dink, skep ons die wêreld rondom ons – positief of negatief. Maak dit nie vir ons sin om net die suiwerste en mees edele gedagtes te bedink sodat ons wêreld ook in ooreenstemming daarmee kan wees nie?”

Sy tweede lesing het oor omgewings- en ekologiese kwessies gehandel, waarin hy aangedui het dat ons lewens in volmaakte harmonie met die omgewing moet wees.

Die Tai Chi meester, Chungliang Al Huang, het ook sy kuns gedemonstreer. Hy word beskryf as iemand wat só in harmonie met die krag van die aarde is dat hy saam met die wind en die water beweeg in ‘n ballet van die siel. Sy leerlinge sê hy is ‘n meester in bewegende meditasie. Saam met hom kom jy in kontak met jou innerlike wese, met die aarde onder jou voete en met jou gees, sodat jy weet wie jy werklik is. Alle stres en spanning verdwyn dan uit jou lewe.

Die vereniging van godsdiens en die wetenskap

Verskeie referente het op die noodsaaklikheid van ‘n sintese tussen godsdiens en die wetenskap gewys.

Dr. David Breed van die VSA het in sy lesing, “Godsdiens en wetenskap: is dit tyd vir bekering?” gesê dat verwydering tussen dié twee denkpatrone uit die weg geruim moet word. Konflik tussen godsdiens en die wetenskap spruit uit beperkte kennis oor ‘n veel meer omvattende werklikheid waarin ons is. Om hierdie saak reg te stel, sal daar enersyds ‘n sintese tussen verskillende godsdienstige tradisies moet plaasvind, en andersyds ‘n kosmiese visie tot die wetenskappe toegevoeg moet word.

Verering van die gees van die aarde

Verskillende Nuwe Era groepe, asook sjamaniste en hekse, streef na eenwording met die natuur. Dit sluit kontak met “die gees van die aarde” in.

Deirdre Pulgram Arthen, ‘n heks van die Wicca beweging in die VSA, het ‘n opvoering gedoen wat sy só beskryf: “Vereer die gees van die aarde in rituele, danse en sang.” Sy nooi mense van alle gelowe uit om saam ‘n rituele ruimte te skep waarin die goddelike natuur van die aarde geopen en mense se verbintenis daarmee ervaar kan word. Heidense sang en danse wat uit die pre-Christelike era in Amerika en Wes-Europa dateer, is opgevoer.

Nog ‘n lid van Wicca, Sarah Avery, het die kragte van die Godin van die Aarde in ‘n voordrag verduidelik.

Drama, dans en sang

Die uitvoerende kunste word as tegnieke beskou om konflik teë te werk deur vrede en harmonie te skep. Verskeie opvoerings is aangebied, onder andere deur Masankho Kamisi Banda van die VSA. Hy het mense genooi om hierin te deel. Sy oproep was: “Kom genees jou liggaam en voed jou siel en gees terwyl jy op musiek uit Afrika en die Karibbiese Eilande dans. Enigeen van enige ouderdom is welkom. Leer om jouself ten volle en met vertroue uit te druk.”

Deborah Bennett van Amerika het met ‘n groep jeugdiges van verskeie etniese en godsdienstige agtergronde ‘n 15 minute lange program van dans en meditasie vir vrede aangebied. Die tema was: “Drink almal saam geestelike nektar op die vlak van die siel waar ons almal een is.” Direk daarna het ‘n meditasiesessie van drie minute vir die hele gehoor gevolg.

Dr. Tom Hansen, ‘n Amerikaanse unitariese universalis, het ‘n opvoering aangebied wat hy “’n kursus in wonderwerke deur sang” noem. Dit is ‘n musikale inleiding tot die beginsels en praktyke van wonderwerke. Tom speel ghitaar en sing terwyl die betekenis van elke lied aan die gehoor die gevoel van wonderwerke gee.

Nestor Kornblum van Spanje het ‘n opvoering aanbied wat hy só beskryf:

“Stemme en gewyde instrumente uit baie kulture. Dit is ‘n musikale en meditatiewe ondervinding met agtergrondsang en diep Tibetaanse en Mongoolse dreunsang, of ‘chanting’. Die eenheid en harmonie van die mensdom sal hierdeur uitgedruk word.”

Anders Nyberg van Swede het ‘n huwelik in drama en sang aangebied waarin ses Sweedse meisies ses swart mans uit Afrika ontmoet. Hulle verskillende sangstyle vloei tot ‘n eenheid saam. Daarna is ‘n dans-item aangebied wat hy beskryf as: “Die huwelikspartytjie: ‘n viering van wêreldsang en sirkeldanse.” Hy verduidelik dit só:

“Ons kom saam in ‘n sirkel en neem deel aan tradisionele liedere en sirkeldanse van die een groot wêreldfamilie (global village). Ons is verwonderd oor die verskeidenheid en verbly ons in die eenheid! Liedere uit Swede en Suid-Afrika sal voorkeur geniet, maar items uit die Westerse en Oosterse tradisies sal ook ingesluit word. Die dans is bedoel om nie net die hele gehoor in te sluit nie, maar simbolies ook die hele aarde in sy sirkel in te sluit.”

Waarde van die inheemse gelowe

Daar is op die konferensie ‘n groot ophef van die waarde van die inheemse (tradisionele) godsdienste gemaak, veral die bydrae wat hulle tot die vestiging van ‘n universele etiek kan lewer. Dr. Kay Read van De Paul Universiteit in Amerika het ‘n werkswinkel aangebied met die titel: “Om wêreldburgers te word: die bydrae van die inheemse gelowe tot ‘n universele etiek.” Verskeie akademici is by die werkswinkel betrek om die nut van inheemse wysheid en geloofsopvattings in die ontluikende wêreldgemeenskap aan te dui.

Gary Rhine van Dreamcathers, Inc., in die VSA, het ‘n bespreking gelei, asook gebede en meditasie wat daarop gerig was om die smarte en pyn van die verlede uit te suiwer. ‘n Gesamentlike visie vir die godsdiensvryheid van inheemse gemeenskappe wêreldwyd in die nuwe millennium, is geformuleer.

Gebed en meditasie

Gebed en meditasie word dikwels as sinonieme gebruik, met die klem op meditasie as ‘n mistiese ervaring. Gesamentlike gebeds- en meditasiesessies is dikwels op die konferensie aangebied.

Peter G. Azrak, ‘n ekumeniese Christen uit Amerika, het oor die voordele van gebed gepraat in sy referaat: “Psigoterapie en gebed: die weg na geestelike eenheid.” Sy standpunt is dat gebed ‘n verootmoedigende en verenigende effek het waardeur selfs die verskillende godsdienste verenig kan word. Hy sê: “Ons sal saam bid en ons diepste hoop met mekaar deel dat gebed en meditasie oor al die grense van godsdiensverskille sal sny.”

Nog ‘n ekumenies-gesinde Christen uit die VSA, Judith Baker Miller, het gepraat oor “Joga as gebed.” Sy verduidelik dit só:

“Die deelnemers sal onderrig en gelei word in ‘n gebed waarin die eenvoudige vloei van joga asana’s met die gebed van Jesus geïntegreer sal word. Hierdie groepsgebed sal ‘n uitdrukking van dankbare erkenning wees aan Hatha Joga, die leerstellings van Jesus, en van die baie paaie na dieselfde waarheid. Dit sal die gees van die heelal adem.”

Barbara Carpenter van Network of Light in die VSA, se lesing het gehandel oor “Die ervaring van eenheid deur ‘n gebed van die hart.” Sy het gesê:

“Die gebed van die hart is ‘n geestelike meditasie waarin die deelnemers hulle harte en gedagtes verenig deur ‘n heilige gebedswoord te gebruik, verkieslik ‘n naam van God, bv. Jesus, Jahweh of Allah. Sodoende word hulle gedagtes tot bedaring gebring en die teenwoordigheid van God binne-in hulle ervaar. Alle gedagtes gaan dan sonder beoordeling by hulle verby. Dit lei dikwels na ‘n gevoel van warmte, lig, vrede, blydskap, liefde en wysheid. Die daaglikse beoefening van dié meditasie lei na die verligting van stres en spanning, innerlike vrede, meegevoel en mededeelsaamheid.”

Meditasie van hierdie aard is ook by die konferensie beoefen sodat die deelnemers kon ervaar hoe stres verlig en innerlike gevoelens verander kan word.

‘n Ander spreker oor meditasie was dr. Margaret Czerny van Oostenryk. Sy beweer dat meditasie oor alle kulturele, sosiale en professionele grense gaan. Volgens haar besef meer en meer mense dat professionele sukses alleen nie geluk kan bring nie. Mense soek nou na persoonlike transformasie deur middel van geestelikheid. Dr. Czerny sê dat deur meditasie balanseer ‘n mens jou persoonlike en professionele lewe met ‘n geestelike visie. Sy is ‘n internasionale ekonoom wat self reeds jare lank gereeld mediteer.

‘n Verdere meditasie-werkswinkel is deur Sandy Glassman van Science of Spirituality in die VSA aangebied. Hy sê:

“Mense oor die hele wêreld mediteer vandag: sommige vir hul liggaamlike gesondheid, sommige om die kwaliteit van hulle lewens te verbeter, en sommige om geestelike redes. Hierdie werkswinkel het iets vir elkeen. Dit help ons om meer bewustelik as geestelike wesens te leef. Dit is op die teorie van Santa Mata gebaseer, wat meditasie oor die Innerlike Lig behels. Verskeie geleenthede sal vir meditasie gebied word.”

Elizabeth Hin van die White Rose Foundation in die VSA, het verduidelik hoedat geleide meditasie deur die lede van alle gelowe beoefen kan word. Hierdeur kan hulle in gebed, genesing en visualisering vir die gees, die land en die mense van Afrika deel.

Dr. Ram Jee Singh van Indië beskryf meditasie só:

“Verskillende gelowe het verskillende vorms van meditasie ontdek, en hulle moet nie met mekaar daaroor stry nie. In die Santa Mata tradisie is die eerste stap na meditasie die herhaling van die heilige naam van jou geestelike leier ten einde konsentrasie te bewerkstellig. Dit is ‘n verstandelike proses, en geskied nie in hoorbare woorde nie. Hierna moet ons ons gedagtes en aandag op die vorm en figuur van ons geestelike leier vestig ten einde die meditasie te verdiep. Dan moet ons ons gedagtes op die punt van lig tussen ons oë vestig, waarna ons ‘n goddelike geluid sal hoor. Dit mag aanvanklik nie duidelik wees nie, maar ná oefening sal die meditasie makliker en geestelik meer betekenisvol word.”

Joga

Dr. Swami Veda Bharati van die Joga Meditasiesentrum in Amerika het ‘n lesing gelewer getiteld: “Ooreenkomste en samevloeiings tussen verskillende paaie van meditasie.” Hy sê: “’n Direkte, persoonlike ervaring van die Transendente – of ons dit God noem of nie – is die gemeenskaplike doel, of wese, van alle gelowe. Die pad wat na hierdie Bron lei, is meditasie.”

Thomas Patric Ryan van Kanada se referaat was getiteld: “Meditasie en joga as Christelike geestelike gebruike.” Hy sê hieroor:

“’n Toenemende aantal Christene beoefen joga en meditasie tot groot voordeel. Dikwels praat hulle nie hieroor nie, uit vrees dat vriende dit nie sal verstaan of aanvaar nie. Hulle is self nie seker oor hoe om die Christelike geloof aan meditasie en joga te koppel nie. Hierdie bespreking is daarop gerig om dié skakeling te verduidelik sodat Christene hulle geloof deur middel van joga en meditasie op ‘n ryk en betekenisvolle wyse kan ervaar.”

Paramahansa Prajnanananda, ‘n Hindoe van die VSA, sê dat die toekomstige hoop van die mensdom in joga geleë is. Hierdie gebruik is eerstens daarop ingestel om eenheid in ‘n mens se eie lewe te bring, en tweedens om ‘n band van eenheid tussen alle gelowe te skep.

‘n Wêreldsabbat vir versoening

‘n Voorstel is gemaak vir die bepaling van ‘n wêreldsabbat as ‘n jaarlikse dag van versoening tussen alle mense van alle gelowe. Dit vind ten nouste aansluiting by die idee van die Nuwe Era Beweging se ‘Worldwide Healing Day.’

Rev. Rod Reinhart van The World Sabbath of Religious Reconciliation in die VSA het ‘n werkswinkel gelei waarin hy verduidelik het waarom daar ‘n intergeloofs heilige dag vasgestel moet word wat die Wêreldsabbat vir Godsdienstige Versoening genoem moet word. Op hierdie dag kan godsdiensleiers oor geregtigheid, gelykheid en vrede praat. Op dié dag kan aangetoon word dat alle godsdiens-oorloë eintlik net verskonings vir etniese haat en ekonomiese ekspansionisme was. Rod Reinhart sou só ‘n wêreldsabbatdag in Michigan vier en het alle godsdiensleiers gevra om hom hierin na te volg.

Die universele gees

‘n Gemeenskaplike geestelike ervaring in baie gelowe word as ‘n samebindende en verenigende faktor beskou. Prof. James Nelson, professor in Religie aan die North Park Universiteit in Amerika, en ‘n lid van die raad van die PWG, se lesing was getiteld: “Wat beteken dit om in ‘n universele gees te glo?” Hy verduidelik dit só:

“’n Heilige teenwoordigheid word as die hoogste religieuse belewenis in verskeie van die wêreldgodsdienste ervaar. Daar is dus ‘n gemeenskaplike kern in dié godsdienste. Die ervaring van die universele gees het ook implikasies vir sosiale geregtigheid en etiese norme in die samelewing.”

Buitesintuiglike geestesgawes

Dr. Susan Bostwick van die Kerk van die Goddelike Mens in die VSA het gepraat oor heldersiendheid in ‘n mens se geestelike lewe, en hoe dit werk. Sy het tegnieke vir selfgeleide meditasie verduidelik, waardeur mens toegang tot geestelike vermoëns soos heldersiendheid kan kry. Sy het ook aangedui hoedat dié gawe in 'n persoon se alledaagse lewe gebruik kan word.

Holistiese genesing

Holistiese genesingspraktyke is ook ingespan om die mens se latente geestelike en kosmiese kragte vir die Nuwe Era te onsluit. Dr. Jeffrey Ptak van Chiropractors Restoring Energy Worldwide, VSA, het ‘n lesing gelewer getiteld: “Chiropraktyk: ons genees die wêreld deur die geestelike mens en die fisiese mens met mekaar in verbinding te bring.” Hy verduidelik dit só:

“Chiropraktyk het reeds vóór die kwantumfisika erkenning aan die bestaan van ‘n intelligente, holografiese heelal gegee. Ons hele filosofie is gebaseer op die alomteenwoordige bestaan van ‘n Universele Intelligensie en sy verpersoonliking in individuele lewensvorme. Ons hele doel is om steurings te verwyder sodat die Intelligensie homself deur alle lewensvorme kan uitdruk. Ons sien chiropraktyk dus as ‘n onmisbare voordeel vir ‘n persoon se geestelike, verstandelike en fisiese welstand. Nadat elke persoon vry is om sy/haar geestelike essensie te openbaar en sy/haar roeping en talente uit te leef, sal die ideaal van universele eenheid verhoog en gedien word.”

Geestelike sielkunde

‘n Vertakking van die sielkunde wat op die ontdekking en benutting van geestelike waardes in mense ingestel is, word geestelike of heilige sielkunde genoem (sacred psychology). Ram Giri van die VSA het ‘n voordrag hieroor gelewer, getiteld: “Geestelike sielkunde: ‘n instrument om die geestelikheid van alle gelowe te verhoog.” Hy sê:

“Die optimale oplossing vir lyding is ‘n geestelike transformasie. Deur die erkenning van hierdie hoër potensiaal van die mens, kan ‘n geestelike sielkunde ‘n potente krag wees om individue te help om ‘n transformasie te maak deur ‘n dieper toewyding aan hulle geloof. Hulle ingebore geestelike potensiaal moet ontdek en benut word vir die bevordering van houdings en optredes van meegevoel.”

Islam en wêreldvrede in die nuwe millennium

Duidelike pogings is aangewend om aan Islam ‘n vredemakende rol in die wêreld toe te skryf. Dr. Maneh Hammad Al-Johani van Saoedi-Arabië het ‘n lesing gelewer met die titel: “Islam en wêreldvrede.”

Dr. Shah Sufi Mohammad Nurul-Alam, ‘n Moslem van die World Human Rights Service Council in die VSA, het ‘n lesing gelewer getiteld: “Die millennium profesie kondig ‘n Goue Eeu aan.” Hy sê onder meer:

“Die huidige beskawing sal ná die derde wêreldoorlog in die jaar 2002 eindig indien die mens nie na sy innerlike stem luister nie. Moderne profete vestig die aandag op hierdie innerlike geestelike drang. ‘n Nuwe beskawing sal deur middel van die Groot Imam Mahdi begin, wat die Almagtige God se permanente vredesgesant na die aarde is. Hy sal uit die Arabiese woestyn na vore tree, soos deur God bepaal. Jesus Christus sal uit die hemel verskyn om die Groot Imam Mahdi by te staan om in 2002 ‘n wêreldregering te vestig met Jerusalem as hoofstad, waardeur ‘n toestand van hemel op aarde sal aanbreek.”

Feminisme in die nuwe millennium

Dr. Douglas Canterbury-Counts van die Sentrum vir Geestelike Sielkunde (Sacred Psychology) in die VSA, het feminisme bevorder aan die hand van ‘n referaat getiteld: “Die swart moeder: ‘n noodsaaklike oerbeeld vir ‘n nuwe millennium.” Hy het gesê dat die sielkundige, Carl Jung, in die 1930’s geskryf het dat as die huidige beskawing nie die belangrikheid van vroulikheid herontdek en hierdie oerbeeld in ons lewens herstel het nie, daar geen hoop vir die voortbestaan van die mensdom sou wees nie. Die spreker het ook na dr. Jean Houston verwys, wat sê dat een van die mees betekenisvolle gebeure in die huidige tydvak die opkoms en verering van die vroulike is.

Die oerbeeld van die moeder, met spesifieke verwysing na die wysheid van ‘n swart moeder, Kali, en die wysheid wat sy aanbied, is in die referaat behandel.

Hekse en towenaars

Hekse, towenaars en spiritiste uit verskillende kulture word as ‘n integrale deel van die religieuse gemeenskap gesien, en het die PWG aktief gebruik om hulle beeld in die samelewing te bevorder.

Donald Frew van die Covenant of the Goddess in die VSA, het die moderne beoefening van antieke toorkuns (neopagan witchcraft) bespreek. Dit word ook Wicca genoem. Donald is die organisasie se intergeloofsverteenwoordiger en sien dit as sy taak om negatiewe mites oor hekse en towenaars die nek in te slaan. Hy was ook op die 1993 konferensie van die PWG.

‘n Ander spreker was Judith Grove Harris, ‘n priesteres in die feministiese Wicca-beweging in Amerika, wat ook ‘n meestersgraad in godsdienswetenskap aan die Harvard Universiteit behaal het. Sy het ‘n CD-ROM uitgereik getiteld: “Op gemeenskaplike grond: die wêreldgodsdienste in Amerika.” Judith Harris het die opkoms van toorkuns in feminisme aangedui, en ‘n vergelykende studie oor die rol van hekse in Amerika en Suid-Afrika gedoen. Sy het eietydse heksery en towery in oënskou geneem en ook die sosiale rol daarvan aangedui.

Mormoonse geestelikheid

Verskeie referate is ook deur lede van die Mormoonse kerk van Amerika gelewer. In ‘n referaat getiteld “Menslike wesens – wie is ons?” het dr. Roger R. Keller die Mormoonse standpunt uiteengesit. Hy sê:

“Die Mormone glo dat mense in die teenwoordigheid van God geleef het voordat hulle na die aarde toe gekom het. In hemelse sfere het ons met ‘n proses van geestelike groei begin. Toe ons sterflike wesens geword het, het ons geheue oor ons vorige lewe verdwyn. Met die hulp van die Gees moet ons nou opnuut leer wie ons is en hoe om geestelik te groei.”

Hindoe universalisme

Die Hindoe geloof is ook aktief vir die doel van godsdienstige universalisme aangewend. Dit is veral deur Hindoeïstiese Transendentale Meditasie (TM) en joga dat hierdie doel verwesenlik word. Die multigodsdienstige rol van Sri Ramakrishna word egter ook vir hierdie doel aangewend. Audrey Kitagawa van die VSA verduidelik dit só:

“Sri Ramakrishna het gesê: ‘Ek is die string wat deur al die pêrels loop.’ Die pêrels is die verskillende godsdienste van die wêreld. Hy het universele respek en verdraagsaam teenoor alle godsdienste geleer, en ook gekom om hulle in harmonie met mekaar te bring.”

Ná haar voordrag het Audrey ‘n meditasiesessie gelei en verduidelik hoe ons lewens uit ons harte beheer moet word, wat die sentrum van goddelike liefde is.

Dr. Bhaktisvarupa Damodara Swami, ‘n Hindoe van Indië, het ‘n voordrag lewer, getitled: “Die Vedanta en die rol van die mensdom in die kosmos.” Hy wys daarop dat die Hindoes se heilige geskrifte (die Vedas) ‘n sintetiese beskouing van die wetenskap en die verskillende godsdienste huldig.

Die rol van godsdiens in die VN

Die Verenigde Nasies met sy Algemene Vergadering en Veiligheidsraad, is as ‘n wêreldliggaam ‘n baie invloedryke forum om wêreldvraagstukke te bespreek en besluite oor konflikte te neem. Wat is die rol wat godsdienstige leiers in hierdie gesprekke en besluite behoort te neem? Die VN het reeds vroeg in die sewentigerjare die waarde hiervan besef toe dit die multigodsdienstige Wêreldkonferensie vir Godsdiens en Vrede (WKGV) as ‘n Kategorie 2 nie-regeringsorganisasie in die lewe geroep het. Dit beteken egter nog nie dat godsdienstiges ‘n rol in die Algemene Vergadering en sy besluite speel nie.

In die lig hiervan het dr. Arvind Sharma van die Fakulteit Religieuse Studies aan die McGill Universiteit in Kanada ‘n referaat gelewer met die titel: “Godsdiens en die VN.” Hierin is die vraag gevra: “Wat is die rol wat godsdienstige stemme in die Verenigde Nasies Organisasie moet speel, en kan hulle positief tot die sake bydra wat in die VN bespreek word?”

Christelike Evaluering van Konferensietemas

Uit die aard van die Parlement vir Wêreldgodsdienste se temas is dit baie duidelik dat die konferensie in geen opsig as Christelik beskryf kan word nie. Die fundamentele beginsels van die evangeliese Christendom kom glad nie in die besprekings en toekomsbeplanning tot hulle reg nie en word trouens opsigtelik geïgnoreer. ‘Christene’ wat wél daar opgetree het, is ekumenies-georiënteerd, dikwels onbybels in hulle siening, en het klaarblyklik nie ‘n probleem om saam met die kritici en die opponente van Bybelse Christene om dieselfde tafel te sit en met hulle hande te vat nie.

Van die sprekers wat nogtans namens die Christendom gepraat het, laat ‘n donker skaduwee van dwalings oor die Bybel val. John Morton van die Church of the Movement of Spiritual Awareness in die VSA het gesê omdat God liefdevol is, is daar geen mens wat hel toe sal gaan nie:

“Jy kan die goddelike werklikheid ken terwyl jy nog op die aarde leef. Uit God kom alle dinge. God het sy hele skepping lief, en geen siel sal hel toe gaan nie.”

Dr. Elizabeth Stewart, ‘n teoloog van die De Paul Universiteit in die VSA, se referaat was getiteld: “Jesus die heilige dwaas: ‘n Christologie vir die nuwe millennium.” Dit is op haar doktorale proefskrif gebaseer, wat in 1999 onder die titel “Jesus the Holy Fool” gepubliseer is. Stewart sê dat Jesus se woorde en dade, sowel as die negatiewe reaksies wat dit by die volksleiers ontlok het, ‘n Bybelse basis bied om Hom ‘n heilige dwaas te noem. Die teendeel is egter waar: sy kritici en vyande is dwase omdat hulle Hom weens hul geestelike en morele verdorwenheid geminag en verwerp het. Jesus is die heilige Seun van God en absolute toonbeeld van regsinnigheid, in wie alle skatte van wysheid en kennis verborge is.

Die volgende antichristelike temas is die hoofkenmerke van hierdie konferensie:

Eenheidsdenke

Die Nuwe Era Beweging se filosofie van die eenheid van alle dinge was die hoofkenmerk van die konferensie. Gemeenskaplike terrein moet tussen al die godsdienste bepaal word sodat hulle kan hande vat en saamgroei tot ‘n universele geheel. Die Christelike konsep van teenstellende denke (bv. tussen lig en duisternis, die waarheid en die leuen, die hemel en die hel, die gereddes en ongereddes, die ware godsdiens en al die valse gelowe) is heeltemal verwerp omdat dit na spanning en konflik lei, en nie na die skepping van ‘n ongepolariseerde en onderling aanvullende wêreldbroederskap van gelowe nie.

Humanistiese begrippe

Humanistiese begrippe oor liefde, versoening, eenheid, harmonie, broederskap, verdraagsaamheid en meegevoel is algemeen op die konferensie gebruik. Let op dat daar géén Christelike inhoud aan gegee word nie. Daar word nêrens van die agape liefde van God in Jesus Christus gepraat nie, nie van versoening tussen God en mens by die kruis nie, nie van Christelike eenheid, harmonie en broederskap nie, ook nie van Christelike verdraagsaamheid teenoor die broeders, onverdraagsaamheid teenoor die valse godsdienste en Christelike meegevoel met ‘n wêreld in sy nood en verlorenheid nie.

‘n Ekumeniese Christendom

Baie moeite is gedoen om die Christendom binne die raamwerk van ‘n wêreldwye, intergeloofsekumene te plaas. Dit beklee nie ‘n unieke posisie as ‘n spesiale openbaring van God nie, maar is een van talle aanvullende openbaringe aan die mens deur die eeue heen. Dit funksioneer dus komplementerend t.o.v. die ander gelowe en is daarom nie die enigste weg tot God nie. Hierdeur word Jesus se stelling in Johannes 14:6 totaal genegeer dat Hy alleen die weg na die Vader is.

Erkenning aan afgode

Die Here sê dat ons geen ander gode voor sy aangesig mag hê en ons nie voor hulle mag neerbuig en hulle dien nie (Ex. 20:5). Die Nuwe Testament verbied ons in dieselfde duidelike taal om jukgenote van ander gelowe te word (2 Kor. 6:14-17). Ons mag geen gemeenskap met hulle hê nie en dus ook nie saam met hulle dans, mediteer, beraadslaag en konferensies hou nie. Die rede vir hierdie verbod is die skrikwekkende realiteit dat die beoefenaars van die valse godsdienste met ‘n vorm van demonologie besig is (1 Kor. 10:19-20).

Die uitdruklike erkenning wat aan die Afrika-godsdienste met hulle voorvaderaanbidding en towery gegee word, is ‘n ander vorm van die kondonering van afgodery. Al hierdie dinge dra daartoe by om ‘n Christelike lewenswyse, en veral ook Christelike onderwys, in die nuwe millennium te beperk en stelselmatig uit te faseer deur dit met ander gelowe te vermeng.

Heksery, towery en spiritisme

Hekse, towenaars en waarsêers was ook op die konferensie welkom en beoefen ongehinderd intergeloofsbande met die familie van wêreldgodsdienste. Dit alleen is ‘n bewys dat die PWG antichristelik is. Hierdie aktiwiteite word uitdruklik in Deuteronómium 18:10-12 verbied. In Handelinge 19:19 word gesê dat mense wat hulle van towery bekeer het, in Bybelse tye hulle boeke oor toorkuns in die openbaar verbrand het.

Meditasie en mistiese ervarings

Geweldige klem is in die konferensie op verskeie vorms van Oosterse meditasie gelê. Dit is die teenoorgestelde van gebed, omdat dit ‘n meditatiewe inkeer na binne is. ‘n Persoon se gedagtes word deur ontspanning, konsentrasie op ‘n naam (‘n mantra), en visualisering na ‘n kosmiese sfeer verplaas waar hy ‘n dieper ontdekking van homself maak. Dit word die dieper self, die hoër self of die god binne-in jou genoem. Mistiese ervarings soos buitesintuiglike waarneming, die vermoë tot selfgenesing, ‘n supergeheue, asook ander ‘gawes’ word in hierdie toestand verkry.

Holistiese genesing

Oosterse en Afrika-tradisies van genesing het groot voorrang op die konferensie geniet. Dit is alles mistiese praktyke wat óf met meditasie óf met towery te doen het. Dit sal onkundige pasiënte aan okkultiese bindings onderwerp wat ‘n geweldige negatiewe geestelike invloed op hulle sal hê. ‘n Chiropraktisyn is uitgenooi om aan die konferensie te verduidelik hoedat sy praktyk ook op die ontdekking en gebruikmaking van ‘n mistiese kragbron gebaseer is.

Multigodsdienstige toekomsvisie

Die konferensie beskou die komende millennium eenparig as ‘n nuwe epog in die menslike geskiedenis. Dit sal ‘n tyd van wêreldbroederskap wees waarin vrede, eenheid en harmonie tussen alle kulture en gelowe heers. Die verskille sal ál hoe minder en die ooreenkomste ál hoe meer word. Alle vorms van eksklusiwiteit sal verdwyn om vir ‘n aanvullende verskeidenheid plek te maak.

Die Bybel praat ook van ‘n wonderlike toekoms vir die mensdom in die vrederyk, maar daarin sal net een, eksklusiewe godsdiens beoefen word, naamlik die ware Christendom (Jes. 11:9; Jer. 31:34; Hand. 15:16-17).

Die groot rol van Amerika

Dit is opvallend hoe oorheersend die rol van Amerika in die reëlings, finansiering en voorsiening van sprekers vir die konferensie was. Hierdie land is só deurtrek van multigodsdienstige, ekumeniese, spiritistiese, Oosterse, okkultiese en Nuwe Era groepe soos ‘n ou boomstomp wat deur hordes rysmiere ingeneem en byna verteer is.

‘n Voorbereidende konferensie is op 9.9.1999 teen ‘n geweldige koste in Louisville gehou. Dit is deur die Cathedral Heritage Foundation en die Thomas Mertin Center Foundation geborg. Die uur het laat geword vir die Westerse wêreld wat as tradisioneel Christelik beskou is. Amerika gaan die Ooste voor in mistisisme.

Bybelse waarskuwings

Die Bybel waarsku duidelik dat in die eindtyd daar ‘n ekumeniese liggaam van valse godsdienste sal ontstaan wat die wêreld saam met die Antichris sal oorheers en regeer. Dié godsdienste móét vooraf bymekaarkom om ‘n korporatiewe groep te vorm wat onder die leiding van ‘n moederorganisasie besluite kan neem:

“…en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken… en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Op. 17:3-5).

Die dier met die sewe koppe is die Antichris. Die sewe koppe stel sewe goddelose wêreldryke voor, waarvan die sewende een die eindtydse ryk van die Antichris sal wees. Die vrou is die verpersoonliking van die valse godsdienste omdat sy al die ‘hoere’ (die geestelik afvalliges en ontroues) verteenwoordig. Die Antichris dra haar, wat daarop dui dat die politieke leiers die alliansie van valse godsdienste sal erken en bemagtig. Sy sal aan al haar anhangers sê dat die Antichris die ware Christus en Messias van die hele wêreld is.

Die Antichris sal hierdie aspek van sy heerskappy en beeld na buite as baie belangrik beskou, omdat hy ook as ‘n geestelike leier aanbid wil word. Dit sal hy egter nie regkry voordat hy al die valse godsdienste agter hom geskaar het nie. Hy sal dan oorlog voer teen die heiliges wat hom nie wil aanbid nie (Op. 13:7).

Volgens Openbaring 13:4 sal die hele wêreld in ‘n stadium mislei word om die Antichris te aanbid. Dit word ook in Openbaring 13:8 bevestig. Daardie misleiding het nou al begin, en ekumeniese bewegings soos die PWG doen belangrike voorbereidingswerk hiervoor.

In een van die lesings op die konferensie het ‘n Moslem, dr. Shah Nurul-Aram, gesê dat die Groot Imam Mahdi van Islam die hoof van die vrederyk sal wees. Hy sal na bewering uit die Arabiese woestyn opstaan en Jesus sal saam met hom ‘n wêreldregering in Jerusalem vestig.

Jesus het na hierdie valse messiaanse aansprake verwys toe Hy gesê het:

“As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! Of: Daar! – moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan… Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn – moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer – moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24:23-27).

Ons is nou in die tyd van die groot afval, van valse profete, valse godsdienste en grootskaalse misleiding op geestelike gebied. ‘n Deel van hierdie misleiding vind in die Naam van Jesus plaas (Matt. 24:4-5), en dus ook in nominaal Christelike kerke (2 Tim. 4:3-4; 2 Pet. 2:1-2). As ons egter die waarheid van God se Woord, van die Heilige Gees en van Jesus self ken, sal die waarheid ons van alle dwalinge vrywaar (Joh. 8:32).

Watchman Nee 88