Print

Sielkunde: Kan dit met die Bybel Versoen Word?

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: In die humanistiese sielkunde is een van die gevolge van die "wetenskap van die self" dat die mens in selfbeeldontwikkeling eintlik sy eie god word.

“Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees...” (2 Tim. 3:2).

Een van die grootste rewolusies van die afgelope eeu, wat feitlik ongesiens verbygegaan het, is die radikale verskuiwing van die mens se bewussyn weg vanaf die God van die Bybel na die god van die self.  Nog nooit was die mens so gefassineer met homself en so opgeneem in selfverlustiging soos nou nie. Vir die egosentriese, moderne mens is die idee van die Self, in plaas van God, in die middelpunt van sy lewe eenvoudig onweerstaanbaar.

Die grootste aandeel tot hierdie rewolusie behoort aan die humanisme in sy verskillende vorme.  Moderne humanisme beskou die mens as die maatstaf van alle dinge, en dít staan direk teenoor pogings om die mens tot begrip van sy sonde, die noodsaaklikheid van ‘n Verlosser, en ‘n gekruisigde lewe te bring. Humanisme leer ons om goed te voel oor onsself en nie die feit te aanvaar dat ons arme, ongelukkige, verlore sondaars is nie. Een van die sentrale gedagtes in hierdie humanistiese denke, soos dit veral neerslag vind in sielkundige en Nuwe Era praktyke, is die ontdekking dat mense hul lewens kan verander deur die verandering van hul gedagtes, houdings en ingesteldhede. Aldus word die kwaliteit van ons lewens grootliks beïnvloed deur die kwaliteit van ons denke. Die mens beskik sogenaamd oor die “inherente krag” om sy lewe te verbeter. Om een of ander rede is die mens egter nie altyd bewus van hierdie krag nie. Gelukkig het daar nou metodes ontstaan om die mens van hierdie “latente” krag of vermoë bewus te maak en persone te lei om hul vermoëns tot volle verwesenliking te bring.

Hierdie beginsel het die basis geword van terapeutiese en self-help tegnieke soos positiewe denke en visualisering. Feitlik elke moderne metode of program wat daarop gemik is om sekere vaardighede of vermoëns by die mens te ontwikkel, maak op een of ander wyse van hierdie humanistiese beginsel gebruik. Alledaagse kursusse soos motivering, lewensverryking, selfontwikkeling (self-improvement), selfbeeldontwikkeling, persoonlikheidsontwikkeling,  kommunikasievaardigheid, openbare spraak, hoe om mense te beïnvloed, hoe om ‘n beter verkoopsman te word, hoe om ‘n suksesvolle bestuurder te wees, ensovoorts, steun swaar op die beginsels van positiewe denke en visualisering.  Verder word hierdie beginsels duidelik in opvoedingsmetodes in alle vlakke van formele opvoeding, vanaf die pre-primêre tot en met volwassene-onderrig, gesien.

Die beginsel van selfverbetering het ons lewens deursuur: ons hoor dit in die skool, universiteit of technikon, ons leer dit by die werk (ter wille van beter produksie en beter menseverhoudinge), ons sien dit op die televisie en ons lees dit in gewilde gesinstydskrifte.  Kyk maar na al die advieskolomme in ons tydskrifte en adviesprogramme op TV – almal vertel jou hoe jy jouself kan verbeter, of dat jy iemand moet besoek wat jou sal vertel hoe om dit te doen. Is daar dan iets verkeerd met die idee om van jouself ‘n beter mens te maak?  Stem dit nie ooreen met die Here se verwagtinge ten opsigte van heiligmaking nie?  Hierdie vraag sal nou beantwoord word.

Die inherente krag

Humanistiese denke het só sterk geword dat selfs baie van die hedendaagse “Christelike” lering daarvan deursuur is. Die begrippe positiewe denke en visualisering is vandag bekend in baie kerke en in algemene Christelike lektuur danksy “Christelike” leiers soos Norman Vincent Peale, Robert Schuller, Paul Yonggi Cho, James Dobson en andere.  Hulle leer dat ‘n mens op verskillende maniere die inherente krag van sy verstand kan vrystel.  Hy kan bv. sy bewuste verstand fokus op rykdom, gesondheid, voorspoed, of ‘n positiewe selfbeeld en dit behaal deur programmering van die “onderbewussyn”.   Deur die visualisering van die verlangde doelwit, of deur veelvoudige herhaling van ‘n sekere frase, word die veronderstelde “krag” van die verstand geaktiveer.

Dié lering stem oënskynlik ooreen met die Woord, maar met een duidelike verskil: Jesus Christus word uitgelaat. Die lering agter selfverbetering en positiewe denke lei niksvermoedende Christene weg van hulle fokus op Jesus vir hul identiteit, terug na ‘n fokus op hulleself. Die Bybel leer ons om ons lewens krities te beoordeel en sonde te erken en te bely, terwyl positiewe denke ons rig om  onsself baie hoog aan te slaan en wonderlike dinge van onsself te sê. Die voorstanders van positiewe denke en selfontwikkeling beskou bewustheid van sonde en skuld as negatiewe gedagtes wat die selfbeeld afbreek en daarom onder geen omstandighede toegelaat moet word nie. Die mens se vertroue is dus op homself, en God word ‘n blote instrument wat ons help om ons doelwitte te bereik.

Die begrip inherente krag kom ook nie in die Bybel voor nie. Dit is ‘n leuen wat die Satan gebruik om die mens tot selfverheffing te lei. In 2 Korinthiërs 12:10 getuig Paulus dat wanneer hy swak is, dan is hy sterk in Christus. Daarom sê hy in vers 9b: “Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon” (eie beklemtoning). Ook Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (eie beklemtoning).  God se krag kan eers deur ons geopenbaar word wanneer ons in Christus gekruisig is (Gal. 2:20), en besef dat ons inherent swak is! Ons kan nie tegelykertyd vol van onsself én vol van die Heilige Gees wees nie. U sien hoedat die Satan altyd God se beginsels probeer verdraai: inherente swakheid word inherente krag!

Anders as met positiewe denke en selfbeeldontwikkeling is die fokus van die ware Christelike geloof nie op mooi gedagtes, fantasieë of verbeelding gebaseer nie, maar op definitiewe historiese feite. Die Christelike geloof kan nie buite die historiese feite van die geboorte, sterwe, opstanding en hemelvaart van ons Here Jesus bestaan nie. Die nuwe identiteit van die wedergeborene in Jesus Christus word nie gevorm deur die bevestigende menings of goedkeuring van betekenisvolle andere nie, maar deurdat God die gelowige regverdig verklaar op grond van wat Jesus reeds vir ons gedoen het.

Leeraars van positiewe denke leer dat selfverbetering bereik kan word deur die herhalende verklaring van frases soos “Every day in every way I am getting better and better.”  Die uiterstes waartoe hulle sal gaan om hulself te bedrieg, is verstommend.  Die Nuwe Era ghoeroe, Shakti Gawain, leer sy volgelinge om hulle lewensingesteldheid te verander deur verklaringe soos:

“Ek is ‘n stralende wese vervul met lig en liefde.

Ek is natuurlik verlig.

Ek is die meester van my lewe en my lot.

Ek is heel en volledig in myself.”

Dit is ongetwyfeld die wil van God dat sy kinders sal bely wie Jesus is en wie hulle in en deur Hom is.  Christene bely dat hulle saamstem met die objektiewe waarhede van dit wat God reeds gedoen het. Die Bybel leer dat ons ‘n dubbele identiteit het. Aan die een kant sê God: “Omdat jy gebore is uit Adam, is jy ‘n sondaar.  Jou natuur is deur die sonde verderf en jy is bestem tot die dood.”  Wanneer ons ons eie harte ondersoek, moet ons saamstem dat ons hopelose sondaars is wat niks goed van God verdien nie.  Dit is egter nie die einde van ons belydenis nie. God bevestig in sy Woord: “Omdat Ek jou insluit in alles wat my Seun Jesus Christus gedoen het, is jy vergewe, geregverdig en nou my erfgenaam en gesant op aarde.”

Deur die Woord sien ons dat ons ook ‘n nuwe identiteit in Christus het en kan ons verklaar: “Ek stem saam. Ek is vergewe en geregverdig in Christus. In Hom is ek meer as ‘n oorwinnaar!  Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee!  Ja, ek glo u Woord en u beloftes, Here.”

Alles wat ons verklaar en bely is gebaseer op die duidelike, volle inhoud van God se Woord.  Ons verklaar nie mooi, positiewe idees wat totaal uit kontak met realiteit is nie. Ons verklaar teenoor die Satan en die bose geeste in die lug; teenoor begeertes en luste van die ou sondige natuur; teenoor bekommernis, vrees, bitterheid en woede:  “So sê die Here!”

Kan sielkunde en Christenskap sinvol geïntegreer word?

Die meeste Christene verstaan nie die ware aard van sekulêre (humanistiese) sielkunde nie. Dit verwerp God, verheerlik die mens, en is gereeld besig om Christus en die Bybel as onnodig of gevaarlik af te maak.  Dit is opvallend dat sekulêre sielkundiges die eerlikste menings daaroor gee.  Hieronder word ‘n paar genoem:

·       Wat die bekende Amerikaanse psigiater, Thomas Szasz, oor mediese psigiatrie sê is waar van sielkunde in die algemeen: “... medical psychiatry is not merely indifferent to religion, it is implacably hostile towards it. Herein lies one of the supreme ironies of modern psychotherapy: it is not merely a religion that pretends to be a science, it is actually a fake religion that seeks to destroy true religion” (The Myth of Psychotherapy, 1978:23).

·       In Psychology As Religion maak sielkunde professor aan die New York Universiteit, Paul Vitz, ernstige stellings oor sielkunde, soos: “Psychology as religion is deeply anti-Christian.  Indeed, it is hostile to most religions...  Psychology as religion has for years been destroying individuals, families and communities” (1994:9-10).

·       Die grondleggers van die terapeutiese sielkunde was ook uitgesproke oor godsdiens.  Sigmund Freud het godsdiens, en veral die Christelike geloof, gehaat en aktief gepoog om dit te vernietig. Hy self het gesê: “I regard myself as one of the most dangerous enemies of religion” (The life and works of Sigmund Freud, 1955:124).

·       Sy vriend en opvolger, Carl Jung, het dieselfde haat gekoester en gesê dat alle neurotiese persone na geloof gryp, na ‘n mitologiese God wat nie bestaan nie. Bybelse Christenskap het hy as leeg en gevaarlik beskou.

·       Waarskynlik die mees gerespekteerde figuur in humanistiese sielkunde, was Carl Rogers. Alhoewel hy ‘n Christelike opvoeding gehad het, moes hy later in A Way of Being erken dat sy persoonlike geloof ná 50 jaar as sielkundige sodanig verander het dat: “It is now almost the antithesis of what I was taught – and believed – in my youth” (1980:27). Rogers het ‘n leier in die humanistiese beweging geword en hom uiteindelik tot mistisisme, spiritisme en die okkulte gewend.

·       Albert Ellis, die uitvinder van die gewilde Rasioneel-Emotiewe terapie is ‘n erkende ateïs. Hy is oortuig dat alle gelowiges in enige tipe godsdiens onmiskenbaar versteurde persone is, omdat hulle rigied, fanaties en afhanklik is.

·       Vir die uitvinder van Gestalt terapie, Fritz Perls, was enige melding van God ‘n definitiewe simptoom van neurose. Wanneer een van sy pasiënte oor God praat, sou Perls maklik vir hulle sê: “I feel separated from you by your God” (Transpersonal Psychotherapy, 1980:118). Die melding van God is dus slegs ‘n simptoom wat genees moet word.

·       Selfs sielkundige evaluering het ‘n vooroordeel teen die Christelike geloof. So byvoorbeeld, word response met ‘n godsdienstige inhoud in die Rorschach inkklad toets as abnormaal verreken. Volgens die teorie waaruit die toets ontwikkel is, is response met godsdienstige inhoud simptomaties van skisofrenie en ander versteurings waarin delusies ervaar word.

·       Dit is dan geen wonder nie dat professor in Opvoedkundige Sielkunde, William Kilpatrick, in sy boek Psychological Seduction tot die gevolgtrekking kom: “Psychology and religion are competing faiths. If you seriously hold one set of values, you will logically have to reject the other” (1983:14).

·       Die psigiater Thomas Szasz (ibid:188) druk hierdie konflik nog sterker uit: “the implacable resolve of psychotherapy [is] to rob religion of as much as it can, and to destroy what it cannot...”

In die lig van die voorafgaande is dit totaal verbysterend dat die grootste voorstanders van ‘n integrasie van sielkunde en Christenskap, Christen sielkundiges is!  Hoe ironies tog dat die ywerigste kampvegters vir sielkundige behandeling Christene is, terwyl die grootste kritici van psigoterapie sekulêre sielkundiges is wat reeds die skadelikheid van hul eie stelsel gesien het.

Die genoegsaamheid van Christus

Is integrasie van Christenskap en die sielkunde enigsins nodig? Laat ons kyk wat God in sy Woord vir ons hieroor sê:

“En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk” (2 Kor. 9:8; eie beklemtoning).

“Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug" (2 Pet. 1:3; eie beklemtoning).

Die bekende Psalm 23 begin met: “Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie.”

In Psalm 34:18-20 is dié kosbare belofte: “Hulle roep, en die Here hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede.  Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom” (eie beklemtoning).

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim 3: 16-17; eie beklemtoning).

“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus. En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Fil. 4:6-7, 19; eie beklemtoning).

Dit is opmerklik dat “harte en sinne” pertinent hier genoem word, aangesien persone met “sielkundige probleme” juis probleme van die hart, d.w.s. emosionele probleme, en  versteurings van die sinne, d.w.s. versteurings in persepsie en denke ervaar. “Elke behoefte” bedoel presies wat dit sê.  Dit bevestig net weer eens dat die Here nie slegs in sg. “geestelike” behoeftes voorsien nie, maar dat Hy belowe om in alle opsigte te voorsien en dat Hy sy Seun gestuur het om totale verlossing te bring, d.w.s. van alle kwellinge in hierdie lewe, en nie slegs om redding vir ‘n toekomstige lewe te beloof nie.

As God belowe dat Hy elke behoefte van sy kinders sal vervul, sou dit ongeloof van ons kant wees om te dink dat dit nie psigiese behoeftes insluit nie. Dit sou beteken dat ons God beskuldig dat Hy nie sy beloftes nakom nie, en dat Hy ‘n leuenaar is. Daar is egter Christen sielkundiges en teoloë wat beweer dat ons nie hierdie beloftes letterlik kan opneem nie, m.a.w. dat elke behoefte nié elke behoefte beteken nie, en harte en sinne ook nie dit nie, maar iets anders. Die antwoord daarop is eenvoudig: hoe kan ‘n nietige mens, met sý verstand wat dwaasheid in God se oë is, besluit dat God eintlik iets anders met duidelike, ondubbelsinnige beloftes soos die voorafgaande bedoel het. Daar bestaan geen Skrifgedeelte wat ons die toestemming gee om God se Woord te vergeestelik nie.  Sulke mense openbaar eintlik net dat hulle die vrees van die Here en respek vir sy Woord verloor het.

God het in sy Woord vir ons antwoorde gegee vir elke emosionele of geestelike probleem wat die mens kan ervaar. Die siel en gees van die moderne mens verskil geensins van die eerste mense wat geskape is nie, daarom is geen hedendaagse probleem werklik uniek nie. Bogenoemde beloftes is daarom vandag net so geldig vir die moderne mens. God is per slot van sake die enigste Skepper van siel en gees, en indien Hy nie instaat sou wees om die gebrokenes van hart en verslaes van gees te genees nie, dan sou dit vir enige ander wese uiteraard onmoontlik wees. Waarom bly ons dan glo dat ons sekere oplossings vir hartsake eerder by ‘n sielkundige sal kry?

Wanneer “Christen” sielkundiges sê dat die Skrif nie voldoende is om die behoeftes van gelowiges te vul nie, impliseer hulle dat God die mensdom vir die grootste gedeelte van sy geskiedenis sonder die nodige hulp gelaat het. Dit impliseer ook dat Christus as Verlosser nie genoegsaam is nie.  Ed Bulkley skryf in sy boek Why Christians Can’t Trust Psychology:

“No matter how it is worded, regardless of how cleverly it is packaged, whether or not the motive is sincere, counselling that is merged with psychological theory does not believe that Christ is sufficient to heal the troubled heart” (1993:275).

Glo die voorstanders van integrasie dan werklik dat die Bybel onvoldoende is?  Kom ons kyk na die stellings van ‘n aantal “Christen sielkundiges”:

“Disciplined Christian living fails to resolve all the problems in our soul. Inviting the Holy Spirit to take over our life leaves part of our being untouched” (Bulkley, p.198).

“The Bible doesn't say much about human motivation”  (Jones & Butman, Modern Psychotherapies: A Comprehensive Christian Appraisal; 1991:47).

“Surely there is much modern knowledge that was unknown in the days of Jesus and Paul that has been given by God to help us minister to one another and serve Christ more effectively”  (In: Gary Collins, Can you trust Psychology?; 1988:91).

Die manne wat hierdie stellings maak, glo natuurlik dat hulle benadering in lyn is met die Skrif.  In die Woord vind ons een van Jesus se reaksies op die Sadduseërs, ‘n groep wat ook hul godsdiens op hul eie wysheid en insigte gebou het: “Toe antwoord Jesus en sê vir hulle:  Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt. 22:29).  Hierdie mense verwerp dus die gesag en volledigheid van die Bybel. Die Here sê onomwonde dat diegene wat sy Woord verwerp het, géén wysheid kan besit nie: “Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk hulle het die woord van die Here verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?” (Jer. 8:9). Waarom sal hulle geen wysheid hê nie? Omdat alle wysheid van die Here kom (Spr. 2:6) en wysheid begin met die vrees en dien van die Here (Spr. 9:10), d.w.s. onderwerping aan God se wil soos geopenbaar in sy Woord.

Die sielkunde veronderstel dat selfliefde lei tot eiewaarde, terwyl die Bybel vir ons leer dat selfverloëning lei tot heiligmaking. Dit verg geen kundige om die teenstrydigheid daarvan uit te wys nie. Dit is tog onmoontlik om iets wat so mensgesentreerd is en iets wat totaal Godgesentreerd is, met mekaar te wil vermeng.

Die kinders van die Here het nie nodig om hulself te “motiveer” met positiewe idees oor hulself nie. In die oë van die Here het die mens slegs een groot probleem:  homself, en God het vir sy kinders slegs een oplossing gegee: Sy Seun. Don Matzat verduidelik die eenvoud hiervan in sy boek Christ Esteem: Where the search for self-esteem ends:

“Contrary to the thinking of Christian psychologists, Christianity is not a religion doling out spiritual wares and adjusting them from time to time to meet spiritual demands!  Nor is the Bible a fundamentalist’s textbook of psychology offering a potpourri of spiritual and psychological solutions to the needs of hurting people. When confronted with the needs of people, we do not push buttons and pop out appropriate Bible verses. We offer Jesus!  Christianity is and always has been a relationship with the person of Jesus Christ who is the same yesterday, today, and forever" (1990:29).

Omdat die essensie van die Christelike geloof in die persoon en werke van Jesus Christus geleë is, is enige stelling wat beweer dat die Christelike geloof nie genoegsame antwoorde verskaf aan mense wat emosionele pyn ervaar nie, inderwaarheid kritiek op die genoegsaamheid van Christus. Ongelukkig moet bygevoeg word dat die meeste Christene vandag hul geloof beskou as ‘n spesifieke stel reëls en doktrines, eerder as ‘n lewende verhouding met die persoon van Jesus Christus.

Die vraag of Christus ‘n genoegsame oplossing vir die persoon met emosionele probleme is, is egter een van die groot kopstukke van die moderne kerk.  Hedendaagse wysgere, binne en buite die kerk, wil hê ons moet glo dat dit baie oppervlakkig is om ‘n Skrifgedeelte te deel en te bid saam met ‘n persoon wat baie emosionele pyn ervaar.  Slegs diegene wat in sielkunde opgelei is en dus oor “spesialis” kennis beskik, is gekwalifiseerd om hulp aan mense met diep geestelike en emosionele probleme te verleen.

In die onlangse verlede het die idee van Christelike sielkundiges en psigiaters dan ook baie gewild geword.  Alhoewel die meeste van hulle verkondig dat hulle bybelse berading doen, verkondig hulle meestal sekulêre sielkunde gekamoefleer met geestelike terminologie. Mense word gekondisioneer om te glo dat Bybelse berading onvoldoende is, en dat predikante en pastore nie gekwalifiseerd is om berading te doen nie.

Die kerk aanvaar vandag massas sekulêre “wysheid” vanuit die sielkunde en probeer dit heilig deur die term “Christelik” daaraan te koppel. Die mees fundamentele waardes van die evangeliese Christenskap word daardeur verander. In sy boek Our sufficiency in Christ beskryf John MacArthur Jr. die proses soos volg:

Mental and emotional health is the new buzzword. It is not a biblical concept, though many seem to equate it with spiritual wholeness. Sin is called sickness, so people think it requires therapy, not repentance. Habitual sin is called addictive or compulsive behaviour, and many surmise its solution is medical care rather than moral correction” (1991:67).

Die gevolg is dat hoe sterker die invloed van sekulêre sielkunde in die kerk is, hoe verder beweeg daardie kerk weg van ‘n Bybelse beskouing oor die hantering van probleme.

Te veel mense glo die leuen dat ware wysheid buite ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus en die Skrif bestaan, en dat ‘n sekere idee of tegniek van ‘n buite-Bybelse bron die ware sleutel vir emosionele genesing hou. So ‘n veronderstelling is die direkte antitese van Bybelse Christenskap en kan nie met Christelike waarheid geïntegreer word nie.  Die mens se geskiedenis en die Woord leer ons dat heiligheid lei tot emosionele gesondheid, en nie andersom nie. Hoe het die sielkunde dan so gewild geword, selfs in die kerk?

Die mens se neiging tot selfgesentreerdheid is die sielkunde se grootste hulp en as gevolg van die mens se behoefte aan selfkennis en maklike oplossings vir alledaagse probleme, het hy die sielkunde met oop arms ontvang.  Sedert die sondeval is die mens ook bang om God vir hulp in die oë te kyk, ontbloot en naak in die lig van God se kennis van al sy swakhede en sondes:

“En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie” (Joh. 3:19-20).

Die gedagte om eerlik met onsself te word, vervul sommige mense met soveel afgryse dat hulle dit ten alle koste vermy. Daarom word enige sekulêre oplossing met veel meer ywer aangegryp –  dit konfronteer ons nie met ons sondige natuur nie.

Selfkennis

Selfs Christelike boekwinkels is vol boeke wat aanbeveel om “diep na binne te kyk”; “in aanraking met die innerlike/dieper self te kom”; en om “die ware antwoorde vir probleme in jou eie hart te vind.” Hoekom? Omdat, volgens hierdie skrywers, “die antwoorde diep in ons binneste verborge lê.”

Dit is die beste advies wat die sielkunde vandag aan die mens bied.  Die tragedie is dat hierdie advies deur so baie Christelike leiers aanvaar word. Nêrens in die Skrif vind ons sulke raad nie. In teendeel, die Woord leer ons om weg van onsself te kyk en op Jesus te fokus (Heb. 12:1-4; Kol. 3:1-3).

Kan ons enigsens betroubare antwoorde diep in ons harte vind? Die Woord gee vir ons die volgende antwoorde hieroor:

In Génesis 8:21 sê die Here: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af.”

“Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit;  wie kan dit ken? Ek, die Here, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge” (Jer. 17:9-10).

“Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die Here...” (Spr. 3:5-7).

“Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr. 14:12).

“Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas; maar hy wat in (God se) wysheid wandel, word gered” (Spr. 28:26).

“Want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God” (1 Kor. 3:19).

Wanneer ons oplossings vir ons probleme in onsself soek, kry ons bedrieglike antwoorde. Deur sonde het die mens se verstand verwronge geraak. Dit geld nie slegs vir ongelowiges nie, maar gelowiges kan ook deur hul eie verstand bedrieg word (2 Kor. 4:4 en 11:3).  In sy eie oë is die mens foutloos en aanvaar geen verantwoordelikheid vir sonde nie. As ons nie die waarheid in ons eie harte kan vind nie, hoe kan ons dit verwag van iemand wat self ‘n bedrieglike hart het om die waarheid te onderskei? Slegs God kan die hart toets en die waarheid daarvan ken.

Dawid se gebed in Psalm 139:1-4 getuig ook hiervan:

“Here, U deurgrond my en ken my...

“U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte...

“U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend…

“Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, Here, U ken dit geheel en al.”

Ons kan God nie bedrieg nie – Hy ken ons deur en deur. As jy jouself wil leer ken, bestudeer die Woord en vra die Here om deur sy Gees jou oë daarvoor te open.  Die Woord doen wat psigo-analise nie kan doen nie: dit sny deur siel en gees en is ‘n beoordelaar van die gedagtes van die hart (Heb. 4:12). Om jouself in die lig van die Skrif te sien, is om jouself te sien soos jy werklik is.  Daarby kan slegs God seëninge belowe vir diegene wat aan sy Woord gehoorsaam is.

Mense sê maklik vir ‘n persoon: “Jy het sielkundige hulp nodig vir hierdie probleem.” Laat ons ‘n oomblik mooi hieroor nadink: wat kan sekulêre wysheid toevoeg tot die lewende, kragtige Woord van God?  Dit is skerper as enige wapen en dit sny dieper en sekuurder as enigiets wat bestaan. Hebreërs 4:12 verklaar: “die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard...” Ons sal egter nie weet wat die Woord van God kan doen as ons dit nie bestudeer en toepas in elke aspek van ons lewens nie. Om te sê dat ons in die Bybel glo, is eenvoudig nie genoeg nie; dit moet ‘n spesiale plek in ons lewens inneem. Dawid was ‘n man na God se hart en ons hoef maar enkele Psalms te lees om te sien hoedat hy hom in die Woord verlustig het. Aan Josua beskryf die Here die noodsaaklikheid van die Woord as ons gids soos volg:

“Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan wandel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel” (Jos. 1:8).

Saam met sy Woord het die Here vir ons die Trooster gestuur om ons te lei. Die Heilige Gees het gekom om van Jesus te getuig (Joh. 15:26) en om ons aan alles te herinner wat Jesus geleer het (Joh. 14:26). Hy het ook gekom om ons van ons sondes te oortuig en tot geregtigheid te lei (Joh. 16:8). Die funksie van die Heilige Gees word ook in die hele gedagte van selfgenesing buite rekening gelaat. In sy boek Our sufficiency in Christ gee John MacArthur Jr. sy mening hieroor:

“Unfamiliarity with the Spirit’s sanctifying work has opened the church’s current obsession with psychology. Psychological sanctification has become the substitute for the Spirit-filled life. What point is there in seeking the Holy Spirit’s comfort if, after all, deep-seated emotional problems can be addressed only by a trained psychologist, or if people can come to grips with their lives only by getting in touch with their childhood, or if the answers to our deepest hurts are buried deep within us? If those things are true, we don’t need an Advocate; we need a therapist. And that is precisely the route many in the church have chosen” (1991:105).

Die fundamenteel Bybelse geloof en humanistiese sielkunde stem saam oor die basiese beginsel dat die mens tot kennis van homself moet kom, maar om verskillende redes. Terwyl humanistiese sielkunde leer dat ons onsself moet leer ken sodat ons oor onsself goed kan voel, leer die Bybel dat ons onsself moet ken sodat ons onsself kan kruisig en ons lewe en identiteit in Christus kan ontdek.

Geestelike probleme

In ‘n Bybelse beskouing van die mens bestaan daar nie iets soos 'n sielkundige probleem nie. Alle emosionele of psigiese probleme is in werklikheid geestelike probleme wat ontstaan a.g.v. die skeiding wat sonde tussen die mens en God bring. Enige poging om die sekulêre wysheid van die sielkunde met Goddelike wysheid te vermeng, is om die onheilige met die Heilige te probeer meng, waardeur ons die Heilige Naam van God belaster (Eseg. 36:22).  Die Here waarsku ons juis om geen suurdeeg (misleiding) toe te laat nie, aangesien 'n klein bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak (1 Kor. 5:6-7), soos een vrot appel die hele mandjie vrot maak. Net so sal die vermenging van sielkunde met die Christelike geloof uiteindelik tot verrotting van die geloof lei, en nie andersom nie.

Hierdie proses is reeds sigbaar in die pasiënte van sielkundiges (“Christen sielkundiges” ingesluit). Verkeerde “gode” ontvang die eer, nl. sielkundige tegnieke, die sielkundige, of die nuwe god genaamd “my onderbewuste” of “my dieper self.”  Die Bybel waarsku duidelik: “Ek is die Here, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee nie” (Jes. 42:8).  U kan gerus let op die geloof van Christene wat onder sielkundige behandeling is: hulle vertroue in God verflou, hulle begin om stiltetyd en byeenkomste te verwaarloos, hulle verloor vertroue in die gesag van die Bybel as God se Woord, hulle vertrou nie meer op God se beloftes nie, en begin om die Bybel selektief te benader – hulle besluit self wat hulle sal aanvaar en wat nie. Hoekom gebeur dit? Omdat hulle leer om verkeerde gode te dien. Omdat hulle ingeënt word op ‘n ander wynstok, daarom kán hulle nie die ware vrugte van die geloof dra nie (vgl. Joh. 15:1-6 wat ons verbintenis met Christus betref).

Hulle vertroue skuif vanaf God na hulleself en die terapeut. “Maar die mens wat in aansien is, hou nie stand nie; hy is soos die diere wat vergaan. Dit is die weg van die wat op hulleself vertrou, en van hulle volgelinge wat in hul woorde ‘n behae het...  So sê die Here: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk” (Ps. 49:13-14 en Jer. 17:5).  Kan ons nog twyfel oor die Here se beskouing van metodes soos die sielkunde?

Daarom is ons groot bekommernis die mate waarin die kerk massas sielkundige “wysheid” aanvaar en self begin verkondig. Gerespekteerde “Christen sielkundiges” en “pastorale sielkundiges” het die kerk oortuig dat dit moontlik en wenslik is om sielkunde en die Bybel te “integreer”, omdat ons daardeur soveel “beter” vir die dwalende skape kan sorg.  En die kerk aanvaar hierdie nuwe “wetenskap” sonder om God se Woord te raadpleeg, sonder om te ondersoek en te onderskei. Is dit nie hoe valse lering nog altyd die kerk binnegedring het nie?

Vandag verwys talle leraars hulle lidmate na sielkundiges – vanaf die Herder van hul siele na wolwe in skaapsklere. Daardeur verkondig hulle eintlik dat God se Woord en die verlossingsplan deur sy Seun onvolledig is en dat ons vir amper 1900 jaar ná Christus sonder die nodige middele (psigoterapie) was om ons siele te versorg! Hulle verkondig dat Christus se kruisdood nie ‘n volkome verlossing vir die mens bewerk het nie! Hulle verkondig dat God se wysheid deur die “wysheid” van mense aangevul moet word, waarvan die meeste godloënaars was! (o.a. Freud, Adler, Jung, Ellis en Rogers).  Geliefdes in die Here, dit is niks anders as laster nie!  Mag die Here ons genadig wees.

Dit het tyd geword dat die ware gelowiges terugkeer na God se Woord en begin om God van die afgode te onderskei, sodat ons kan begin om die afgod van psigoterapie af te breek.  God is nog altyd die Groot Voorsiener (Jahweh-Jireh) en sal dit altyd vir sy kinders wees.  God bevestig dat daar niks is wat ons van sy liefde en versorging kan skei nie (Rom 8:35, 38-39).  Die mens bly egter nie by God se Woord nie, begin dinge buite die Woord beproef en word mettertyd daarin vasgevang.  Dit het telkemale met Israel gebeur, en gebeur vandag ook met die kerk. Laat ons onsself heilig en terugkeer na die Een wat sê:

“Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg...  As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die Here het dit gespreek” (Jes. 1:16, 19-20).