Print

Oosterse Meditasie Sluip só in die Kerk in

Written by Prof Johan Malan.

Daar is oral, in die Christelike én nie-Christelike wêreld, ‘n groot oplewing in die belangstelling in meditasie. In Christelike kringe word gebed toenemend met meditasie vervang, waarna ook as kontemplasie, gesentreerde gebede of stil gebede verwys word. Meditasie gaan dikwels met joga-ontspanningsoefeninge en rustige asemhaling gepaard ten einde die linkerbrein af te skakel en na die intuïtiewe regterbrein oor te skakel.

Die doel met meditasie, ongeag of dit Hindoeïstiese Transendentale Meditasie (TM), Boeddhistiese, Islamitiese of ‘Christelike’ meditasie is, is om 'n toestand van volkome liggaamlike en geestelike rus te skep, stres uit te skakel en ook met dieper, meer kreatiewe vlakke van jou psige kontak te maak. Rasionele denke word tot stilswye gebring terwyl jy na mistiese sfere oorskakel om die dieper self in jou te ontdek. Volgens Naomi Humphrey (Meditation – the inner way) help meditasie jou om van jou gebondenheid en vrese bevry te raak deur na 'n nuwe werklikheidsbeeld te transendeer. Die resultaat hiervan is 'n veranderde, holistiese lewenswyse waarin gees en materie saamvloei.

‘n Reis na binne

Die hele gerigtheid van meditasie is na binne. Jy soek nie na God buite jou nie, maar leer om deur die struikelblok van oorheersing deur menslike gedagtes te dring en God binne-in jou te ontdek. Hierdie gebruik is Oosters en kom op die vergoddeliking van die mens neer. 'n Rooms-Katolieke priester en beoefenaar van meditasie, Adrian B. Smith, skryf in sy boek, TM – an aid to Christian growth, dat hy die Oosterse godsbegrip aanvaar: "The great religions of the East are more accustomed to seeking the God who is within, both within the cosmos and within one's own depth. This leads more easily to an interior form of prayer – or centring prayer… The Judeo-Christian tradition looks more often to the God without… TM can, by developing a consciousness of the depth within us, lead us to greater interiority – to an experience of God's presence deep within us." Volgens hom lei ‘n meditatiewe ervaring na groter eenheid en harmonie in die wêreld: "People who are enlightened experience a new harmony with other people and with the cosmic world. They have entered a new era of harmonious relationships which is one of the fruits of the Kingdom."

Gedurende daaglikse meditasietye, gewoonlik twee sessies van 15 tot 20 minute in 'n sittende posisie met toe oë, word van 'n mantra gebruik gemaak om 'n veranderde bewussynstoestand te verkry. 'n Mantra is 'n gebed of spreuk wat uit 'n paar woorde, of selfs net 'n enkele woord bestaan, wat oor en oor herhaal word. Die resultaat daarvan is aandagsvernouing ter wille van bewussynsverdieping. Jy dink aan niks anders nie en hou aan om die mantra te herhaal totdat jy 'n mistiese ervaring het en ingewings diep in jou binneste verkry.

‘Christelike’ meditasie

Die toepassing van meditasie-tegnieke het nie slegs die Roomse Kerk binnegedring nie, maar ook verskeie Protestantse kerke. Dr. Willem Nicol is die groot eksponent hiervan in die NG Kerk, en hy het al verskeie boeke hieroor geskryf. Dr. Nicol (Stem in die stilte, bl. 8) erken die Oosterse oorsprong van hierdie gebruik: "In die Weste het die Boeddhistiese meditasie veral deur middel van die Zen-Boeddhisme heelwat navolging gevind. Sekere Christelike leermeesters van meditasie, soos Thomas Merton, staan ‘n meditasiestyl voor wat aan die Zen verwant is in soverre daar bv. baie intens na innerlike leegheid gestreef word. In Indië het die Joga ontwikkel, 'n streng metode van inkering en konsentrasie. Die doel is die bevryding van die gees deur die beheersing van die liggaam. In Europa word Joga en Zen selfs by Protestantse byeenkomste ter wille van ontspanning gebruik. In Suid-Afrika is die bekendste meditasievorm met Oosterse wortels seker die Transendentale Meditasie (TM). Dit is 'n ontwikkeling van Joga wat in die sestigerjare deur Maharishi in die Weste bekend gestel is. Die volgelinge hoef geen geloof te hê nie. Dit is hoofsaaklik 'n natuurlike tegniek wat aangeleer kan word."

'Christelike' meditasie volg presies dieselfde pad as alle ander vorms van meditasie, naamlik die oorskakeling van die linker- na die regterbrein. Dr. Nicol (Stem in die stilte, bl. 73) sê: "As jy 'n beginner is, moet jy drastiese stappe neem om jou intellek te bedwing." Die hele doel hiermee is om die sogenaamde rasionele linkerbrein tot stilswye te bring sodat gewaarwordings na die vlak van die intuïtiewe regterbrein kan verskuif. Dit open die weg na die ontsluiting van 'n diep bewussynsvlak waar psigiese, of buitesintuiglike, waarnemings gedoen kan word. Die Oosterlinge is vir eeue reeds op mistiese regterbreinervarings ingestel, terwyl die Westerlinge hulleself hoofsaaklik tot rasionele denke beperk. Die belangrikste tegniek om 'n persoon te help om na die onbekende wêreld van sy innerlike te kan oorskakel, is meditasie. Dit dien die dubbele doel om die linkerbrein deur ontspanningstegnieke tot ruste te bring, en dan na die regterbrein se intuïtiewe bewussynsvlak oor te skakel. Vir almal wat meditasie beoefen, ongeag vanuit watter geloofsagtergrond, is hierdie ervaring baie belangrik, anders het die meditasie-oefening misluk.

'n Voorgeskrewe ontspanningsritueel waarin daar van die tone en voete af boontoe op elke liggaamsdeel gekonsentreer word sodat dit kan ontspan, gepaard met innerlike ontspanning en 'n afdaling na die onderste lae van jou psige, is kenmerkend van alle vorms van meditasie. Die oefeninge in konsentrasie, ontspanning en rustige asemhaling word uitvoerig in die meeste handleidings bespreek, en kom tot 'n groot mate met mekaar ooreen.

Goeie én bose ingewings

Uit al die verskillende meditasieskole kom dieselfde bekentenis, naamlik dat die mens se intuïtiewe bewussynsvlak die oorsprong van goeie én bose ingewings is. Dr. Nicol (Stem in die stilte, bl. 97) sê: "As mens op ingewings wag, kan jou eie innerlike of selfs bose magte ook met jou praat." Hierdeur erken hy dat meditasie potensieel ‘n kanaal na Satan skep.

Die Nuwe Era-skrywer, Dick Sutphen (Finding your answers within, bl. 45-47) verwys na goeie én negatiewe geeste wat die mediteerder intuïtief kan beïnvloed. In aansluiting hierby sê die humanistiese sielkundige en mistikus, Marilee Zdenek (The right-brain experience, bl. 20) dat 'n persoon vanuit sy intuïtiewe bewussynsvlak deur geluksgodinne gelei óf deur drake geteister kan word. Sy waarsku teen laasgenoemde, maar beveel 'n geluksgodin as leidster baie sterk aan. Beide kategorieë is vir die Christen onaanvaarbaar. ‘n Geluksgodin of geestelike gids is niks anders as ‘n demoon wat homself as ‘n gesant van god voordoen nie (2 Kor. 11:14).

Mistisisme vir godsdiens eenheid

Dit raak toenemend duidelik dat die mistiek een van die belangrikste terreine is waarop die wêreldgodsdienste mekaar ontmoet en aanknopingspunte vir eenwording kry. Meditasie is ‘n belangrike poort wat toegang tot die wêreld van die mistiek bied. Hierdeur word van die rasionele denke van die linkerbrein af na die intuïtiewe ingewings van die regterbrein oorbeweeg. Daarna word daar deur verskillende bewussynsvlakke afgedaal totdat ‘n kosmiese bewussyn ervaar word. Op hierdie vlak word die ontdekking gemaak dat alle gelowe dieselfde God aanbid, wat die Universele Bron van Wysheid is.

Dr. Celia Kourie, 'n Rooms-Katolieke teoloog van Unisa, bevorder ook die idee van die mistiek baie sterk. Sy sê: "Mysticism is a very deep phenomenon which cuts across all religions. It was neglected as a result of the dryness that crept into Reformed churches." Sy glo dat alle gelowe na mistiese ervarings van eenwording met God lei, en dat die Gees van die een God deur alle godsdienste werk.

Sentrum vir Christelike spiritualiteit

Die Anglikaanse Kerk het in 1987 in Kaapstad ‘n Sentrum vir Christelike Spiritualiteit gestig met die doel om God op nuwe wyse te ontdek en ook die verhouding met Hom deur meditasie en kontemplasie te verdiep. Verskeie kursusse en retraites word deur die sentrum aangebied, onder meer ‘n kursus oor “die inwaartse reis.” Dit is ‘n reis van mistiese eenwording met God. Die stigter van die sentrum was Francis Cull, wat die geestelike mentor van aartsbiskop Tutu was.

Volgens ‘n artikel, Stilte – die moedertaal van God,” (Die Burger, 12.03.2005), Is dr. Carel Anthonissen, NG leraar in die Studentekerk in Stellenbosch, pas as die eerste Afrikaanse en NG direkteur van die sentrum aangestel. Hy is van die Studentekerk af hierheen gesekondeer. Dr. Hannes Koornhof, Wes-Kaapse moderator van die NG Kerk, het gesê: “Dié sekondering is in ooreenstemming met ‘n ontwikkeling in die NG Kerk die laaste jare om weer ál meer deel te raak van die ekumeniese kerk en die breër Christelike tradisie, en om baie meer moeite te doen om lidmate en predikante te begelei in spiritualiteitsgroei en die beoefening van die geestelike dissiplines.”

Dr. Anthonissen werk nou drie dae per week in die sentrum. Die res van die tyd is hy predikant op Stellenbosch, waar hy ook ondersteuningsgroepe reël vir gay Christene en hul ouers. “Retraites (wegbreeksessies van stilte en gebed) is in die NG Kerk nog nie baie bekend nie, maar in die Katolieke en Anglikaanse Kerke word dit as ‘n inherente deel van die Christelike lewe beskou... In die sentrum neem ons die mistieke tradisie in die Christendom ernstig op,” het dr. Anthonissen gesê. In die sentrum se nuusbrief word ‘n kursus geadverteer waarin ‘n mens onder meer “Benediktynse meditasie” kan leer, wat ‘n Katolieke gebruik is. Die aktiwiteite vir die komende jaar is, onder meer, oggende van nadenke, stil dae, inwaartse reise en meditatiewe staptogte. Een van dr. Anthonissen se take is om die sentrum se werksaamhede aan Afrikaanse gemeentes bekend te stel. Sy eerste kursus is by die NG-gemeente Sonstraal in Durbanville.

Lede van verskeie kerke, ook uit die townships, woon byeenkomste van die sentrum by. Onlangs het die feministiese teoloog, Denise Ackermann, vir drie ure lank ‘n pleidooi gelewer dat die praktyk van weeklaag weer in die moderne Christendom gevestig moet word.

Dr. Anthonissen verduidelik hoedat hy in Europa met die gebruik van meditasie kennis gemaak het: “Ek het die kontemplatiewe tradisie die eerste keer ontdek toe ek Europa in 1987 en 1988 saam met Koinona besoek het. Ons het onder meer die ANC se kongres in Londen besoek, maar ons het ook na talle kontemplatiewe gemeenskappe gegaan. Dié gemeenskappe se spiritualiteit het ‘n geweldige impak op my gehad.”

Die struggle

Dr. Anthonissen sê ook dat ‘n Dominikaanse (Katolieke) priester hom in 1982 aan oom Bey (dr. Beyers Naudé) voorgestel het. Hy het oom Bey elke maand gaan sien, en dié het aan hom literatuur oor die struggle (swartmense se verset teen blanke oorheersing) gegee. Dit het hom ‘n meer komplekse en breër siening van sake gegee, wat ook sy bediening onder die studente ten nouste geraak het. Hy sê: “Ek het die studente uitgedaag om ekumeniese toere te onderneem. Ons het ook die SA Raad van kerke besoek en oom Bey daar raakgeloop. Ons het townships besoek, daar oornag, en ook hostelle besoek... Ek het van daardie tyd af begin om so effens na die rand van die kerk te beweeg en die ekumeniese beweging te ontgin.”

Aanvaarding van onbybelse beginsels van meditasie

In die sentrum word daar van die standpunt af uitgegaan dat ‘n meditatiewe reis na binne ook ‘n reis nader aan God is. Dit is duidelik ‘n alternatiewe openbaringskanaal na God, omdat die verstandelike én geestelike kennisname van God se openbaring aan ons deur Jesus Christus, soos in sy Woord beskryf, eenkant toe geskuif en deur openbarings en ingewings tydens meditasie vervang word. Dr. Anthonissen sê: “In die kerk is voorheen dikwels geweldige klem op die Woord in die erediens gelê.” Die pad na geestelike ervarings van eenwording met God is dus nie deur ‘n gelowige studie van die Woord, en ook nie deur gebed in die Bybelse sin van die Woord nie, maar deur meditasie. In hierdie toestand, waarin die mediteerder se rasionele denke tot stilstand gebring word, maak hy op ingewings gedurende ‘n oopstelling van sy intuïtiewe brein na kosmiese sfere staat.

Dit het duidelik niks met geloof te doen nie, en ook nie met die bekende openbarings van God deur sy Woord nie, daarom sê dr. Anthonissen: “Die kontemplatiewe tradisie werk ook met die idee dat God ‘n donkerder, misterieuse kant het – dat geloof nie alles kan verklaar nie. Daar is kante van God waarvoor jy woordeloos staan, vanuit jou donkerte na God se donkerte.” Oor kommunikasie met God, sê hy: “Stilte is eintlik God se moedertaal. Dit is ‘n ruimte waarin God makliker na jou toe kan beweeg en jy in voeling met God kan raak.”

‘n Wêreldwye tendens

Dit waarmee die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit in Kaapstad besig is, is net die punt van die ysberg, omdat dit deel van ‘n wêreldwye vervalproses is waarin ‘Christelike’ kerke gebruike uit die Oosterse mistisisme oorneem. In sy voorwoord vir die boek: A time for departing, deur Ray Yungen, sê Ron Comer: “By using Eastern mystical techniques such as the repetition of words (mantras) and the emptying of the mind, professing Christians are testifying to powerful experiences in the spiritual realms. In Christian circles these techniques are being called: the silence, breath prayer, centering prayer, or contemplative prayer. Through these mystical prayer practices the church today has opened its door to a subtle abandonment of the gospel... Like two rivers merging together, Eastern and Western religious thought are joining together, thus gaining momentum towards a one world religion in which all paths lead to God.”

In sy boek verduidelik Ray Yungen hierdie begrip verder: “For many years during my research I would come across the term contemplative prayer. Immediately I disregarded it as having any New Age connotation because I thought it meant to ponder while praying – which is the normal association with the term. But in the New Age field, things may not always be what they seem to untrained ears. What contemplative prayer actually entails is described very clearly by William Johnston in his book: Letters to contemplatives: ‘When one enters the deeper layers of contemplative prayer one sooner or later experiences the void, the emptiness, the nothingness, the profound mystical silence, an absence of thought.’ To my dismay I discovered that this mystical silence is accomplished by the same methods used by the New Agers to achieve their silence – the mantra and the breath! Contemplative prayer is the repetition of what is referred to as a prayer word or sacred word until one reaches a state where the soul, rather than the mind, contemplates God... Contemplative prayer may sound exotic and appealing, but it is Biblically groundless... Those who use this method put themselves in a trance without God’s sanction. This approach is extremely dangerous. Nowhere in the Bible is such a mystical practice prescribed... Nowhere in the Bible is the silence referred to as the power of God, but faith in the message of the cross (1 Cor. 1:18) most certainly is!”

Ray Yungen wys daarop dat die Rooms-Katolieke Kerk hierdie valse vorm van gebed amptelik in hulle katkisasieboek erken: “Contemplative prayer is hearing the word of God... contemplative prayer is silence.” Lidmate hoef dus nie die Bybel te bestudeer om God se Woord te hoor nie, maar kan deur meditasie ‘n transtoestand skep sodat hulle deur “mistiese ingewings” kan vasstel wie God is en wat Hy vir hulle wil sê. Op hierdie wyse verblind die god van hierdie wêreld (Satan) die sinne van mense “sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:4). Iemand wie se sinne deur die duiwel verblind is, het nie verligte oë van die verstand nie (Ef. 1:18) en gebruik dus nie sy gesonde verstand om deur te lees en te luister van God se Woord kennis te neem nie. Hy skakel sy verstand én die Bybel uit sy leerproses en wend homself tot meditasie en psigiese oopstelling vir ‘n donker en onbekende god, sodat hy deur ingewings meer van hom kan leer.

Mediteerders ervaar dikwels intense mistiese ervarings en sien selfs ligte wat na hulle toe aangesweef kom. Yungen skryf die volgende oor ‘n Katolieke priester, Philip St. Romain: “Having rejected mental prayers as unproductive, he embraced the prayer form that switches off the mind, creating what he described as mental passivity. What he encountered next underscores my concern with sobering clarity: ‘Then came the lights! The gold swirls that I had noted on occasion began to intensify, forming themselves into patterns that both intrigued and captivated me. There were always four or five of these; as soon as one would fade, another would appear, even brighter and more intense. They came through complete passivity and only after I had been in silence for a while’. After this, St. Romain began to sense wise sayings coming into his mind. He also had physical developments occur during his periods in the silence. He would feel prickly sensations on the top of his head... He revealed: ‘I cannot make any decisions for myself without the approbation of the inner adviser, whose voice speaks so clearly in times of need. There is a distinct sense of an inner eye of some kind seeing with my own eyes.’ Is this inner adviser St. Romain has connected with really God? ... This practice has already spread extensively throughout the Roman Catholic and Protestant mainline churches.”

Daar word ook bewyse aangebied dat mense wat ‘n mistiese godsdiensbelewenis het, mettertyd ‘n panteïstiese godsbegrip ontwikkel. Dit is nie die geloof in ‘n persoonlike God in die hemel nie, maar in ‘n onpersoonlike God wat in alles en almal is. Daar is volgens dié siening ‘n element van goddelikheid in elke mens, en dié “god van binne” moet net deur meditasie ontdek en ontwikkel word. Yungen sê: In a recent opinion poll it was revealed that 84% of those questioned in the USA believed God to be everywhere and in everything rather than someone somewhere. This means pantheism is now the more popular view of God. If true, then a high percentage of evangelical Christians in America already lean towards a pantheistic view of God and without realising it devalues the very source of their salvation.”

Christelike beoordeling

Die groot saak waaroor ons duidelikheid moet kry, is of meditasie, wat ook as kontemplasie (‘n mistiese vorm van stille nadenke oor God) beskryf kan word, uit ‘n Bybelse oogpunt as ‘n geldige vorm van gebed beskou kan word. Is daar enige verband tussen Bybelse gebede en meditasie?

Bybelse gebede is diep geestelike gedagtes, begeertes en versoeke wat op ‘n konkrete wyse in woorde uitgedruk word. Die bidder se rasionele brein moet nie in ‘n passiewe toestand verkeer nie, omdat gebed ‘n nugtere en aktiewe bewussynsvlak vereis waarin weldeurdagte woorde teenoor God uitgespreek word. Dit bestaan nie uit die ydele herhaling van woorde (mantras) of mistiese gedagtes wat vreemd aan die Bybel is nie. Die Here Jesus het gesê: “En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie” (Matt. 6:7).

Gebed is ‘n aktiwiteit wat in die geloof geskied (Jak. 1:6; Heb. 11:6). Dit is nie, soos dr. Anthonissen sê, ‘n geval dat geloof nie alles kan verklaar nie, en dat ons gevolglik na ‘n mistiese openbaringskanaal van God moet soek nie. Geloof is uit die Woord van God (Rom. 10:17). Wanneer ons van die Woord van God kennis neem, ongeag of ons dit hoor en of ons dit self lees, dan stel die Heilige Gees ons in staat om beloftes wat die Here in sy Woord maak, in die geloof aan te neem. Ons moet dus eers sintuiglik van die Woord kennis neem, wat vereis dat ons by ons volle verstand is, en dan geestelik op daardie inligting reageer deur in die gebed tot God te nader en sy beloftes in die geloof aan te neem.

Bepeinsing van die Woord. Wanneer daar tye van stille bepeinsing is, dan is dit nie ‘n woordelose gebed nie, maar die oordenking van God se Woord wat gedoen word. Dit is ook ‘n aktiewe verstandelike proses waarin Skrifgedeeltes oordink en deurgrond word, en beslis nie ‘n geval dat ek my van alle gedagtes moet leegmaak nie. Voordat ek die Woord kan bepeins, moet ek eers daarvan kennis neem deur dit te lees, en ook besef dat net die Heilige Gees my kan help om te verstaan wat ek lees: “Open my oë dat ek kan sien die wonders uit u wet” (Ps. 119:18). Wanneer ek hierdie waarhede ontdek, moet dit nie na meditasiesessies lei nie, maar na lofbetuiging en danksegging aan die Here (Ps. 119:62). Ek moet die beloftes memoriseer en my gedurig daarop beroep (Ps. 119:93). Dit moet vir my só ‘n bron van geestelike seën wees, dat ek die Woord die hele dag lank sal bepeins (Ps. 119:97), en selfs ook in die nag (Ps. 119:148; Ps. 1:2). Só ervaar ek die Here se teenwoordigheid en word deur Hom onderrig (Ps. 119:135). In hierdie geestelike ervaring speel Bybelstudie, bepeinsing van die Woord, gebed en geloof in die Here Jesus wat elke belofte in die Woord waar maak (2 Kor. 1:20), ‘n baie groot rol. Die Here se moedertaal is nie stilte nie, want Hy gebruik woorde om met ons te kommunikeer: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Joh. 6:63). God is bokant die mens verhewe, maar deur sy Woord en Gees spreek Hy tot ons harte. Meditasie is ‘n proses van selfinkering, leegmaking en ‘n soeke na God sonder die gebruikmaking van woorde – insluitende God se eie Woord. Dit moet as ‘n heidense gebruik vermy en verwerp word.

God is lig, liefde en waarheid. Wanneer ons in gebed deur Jesus Christus na die Vader gaan, word Hy in al sy heerlikheid aan ons geopenbaar. In die Here Jesus woon al die volheid van die Godheid liggaamlik (Kol. 2:9). Hoewel ons God nie kan deurgrond nie, is daar nie ‘n donker, misterieuse kant van God, soos wat die mediteerders ervaar nie. Hulle ontvang selfs bose ingewings wanneer hulle stil sit en aan niks dink nie, wat ‘n klinkklare bewys is van die feit dat hulle deur hulle Oosterse meditasie ‘n geestelike kommunikasiekanaal na die duiwel skep. Hy doen homself as ‘n engel van die lig voor, maar die mediteerder het geen onderskeidingsvermoë nie omdat hy in ‘n transtoestand is met ‘n alternatiewe bewussyn. Sy rasionele brein is tot stilswye gedwing, daarom kan hy gladnie analities dink en die ingewings onder die leiding van die Heilige Gees, en in die lig van sy Skrifkennis, toets nie. Hy is nou oop vir indrukke en idees wat vernietigende gevolge in sy geestelike lewe kan hê, want mediteerders word gewoonlik deur ‘n blinde liefde vir alle mense van alle geloofsoortuigings oorweldig. Multigodsdienstige ekumene is die gevolg hiervan, en dit kom prakties op die verloëning van Jesus Christus as die enigste Verlosser van die mensdom neer.

Meditasie is ‘n antichristelike selfverlossingsleer. Die mediteerder daal na dieper bewussynsvlakke af waarin hy die vermoëns verkry om homself te genees, sy probleme op te los en vrede met sy omstandighede te maak. Hy ontmoet “die god binne-in homself” wat verkeerdelik as die God van die Bybel aangesien word. Dit is hierdie “god” wat donker en misterieus is, en soms bose gedagtes in hom kan vestig. Hierdie “god” is die duiwel wat deur die gevalle natuur van die mens werk en homself op hierdie manier as “God” openbaar. Selfs wanneer hierdie “god” binne-in jou homself as “Jesus” voordoen, dan is dit ‘n ander Jesus (2 Kor. 11:4) wat deur die inwerking van demone opgetower word. Hy doen homself dikwels as die kosmiese Jesus van alle gelowe voor, en bied sy seëninge aan die ekumenies-gesindes wat hom navolg.

Meditasie lei na eenheidsdenke teenoor alle mense en alle gelowe. ‘n Geïntegreerde, kosmiese beeld van die mensdom is onbybels. Die Here het grense tussen die nasies gestel (Hand. 17:26), en Hy verwag ook duidelik van ons om ‘n heilige lewe te lei waarin ons onsself van alle vreemde gelowe sal afsonder (2 Kor. 6:14-18). Wanneer ons die godgegewe grense tussen volke en rasse afbreek, en ook ekumeniese eenheid met ander kerke, insluitende die Roomse Kerk, nastreef, skep ons ‘n antichristelike en humanistiese vorm van eenheid. Dit kan net tot chaos en die verdere ondermyning van die evangeliese Christendom lei. Wat het dit dr. Anthonissen gebaat om boeke oor die sogenaamde “struggle” by dr. Beyers Naudé te kry en te lees. Waarheen het hierdie struggle met sy kleurblindheid en gedwonge integrasie Suid-Afrika gelei? Dit het na ‘n antichristelike, multigodsdienstige, nuwe wêreldorde-georiënteerde samelewingsorde sonder ‘n Christelike grondwet gelei, met die gevolglike verwerping van Christelike riglyne vir die staat en die samelewing. In die proses is Christelike onderwys as ‘n voormalige staatsinstelling ook by die agterdeur uitgegooi. Alle kerke en gelowe word nou as gelykwaardig beskou en behandel – ook die voorouerkultus van Afrika, met sy mistiese genesingspraktyke deur dolosgooiers en waarsêers. Suid-Afrika het nou in die ware sin van die woord wêreldgelykvormig geword. Die “wêreld” is egter vyandig teenoor die evangeliese Christendom (Joh. 15:19) omdat die wêreld en sy instellings in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Geen wonder nie dat die wêreld en sy gelowe ook aanbiddingsvorms het wat vreemd aan Christelike gebede is.

Laat ons onsself van alle mistiese gebruike en manifestasies distansieer. Laat ons God deur die Heilige Gees in die Naam van Jesus Christus aanbid terwyl ons heilig voor sy aangesig lewe (1 Joh. 3:22), nugtere gedagtes dink deur die lendene van ons verstand te omgord (1 Pet. 1:13), ons aanspreeklikheid teenoor die Here te erken vir alles wat ons doen en dink (Rom. 14:12), en gebede te bid wat in ooreenstemming met sy geopenbaarde wil is (1 Joh. 5:14).

Die getuienis van ‘n verloste

Brian Flynn van One Truth Ministries in Mineapolis skryf: “Elf jaar gelede het ek uit die lewe van ‘n Nuwe Era medium tot bekering gekom en my hart vir Jesus Christus gegee. As ‘n medium moes ek psigiese ontledings doen en deur middel van meditasie met geestelike gidse kontak maak. In daardie stadium het ek nie besef dat die geestelike gidse demone is nie. Nou, as ‘n Christen, hoef ek nie meer in ‘n alternatiewe bewussynstoestand te gaan om vrede en waarheid te soek nie, want ek het dit in die Here en sy Woord ontdek.

“Drie jaar gelede het ek ‘n boek, A time of departing, gelees waarin beweer word dat verskeie Christelike leiers mantra-gebaseerde meditasietegnieke aan mense leer. Ek was geweldig geskok om agter te kom dat die Nuwe Era Beweging die Christendom só diep binnegedring het dat hulle dié tegniek onder die naam van kontemplatiewe gebed beoefen.

Hierdie tegniek behels die aanhoudende herhaling van ‘n woord of sinsnede totdat ‘n toestand van stilte intree. Soms word daar in plaas van ‘n mantra op die asemhaling gefokus, vandaar die uitdrukking asemhalingsgebede (breath prayers). Die doel daarmee is om ‘n alternatiewe bewussynstoestand te bereik sodat daar met God gekommunikeer kan word. Dit is egter ‘n misleidende gebruik wat eeue gelede al deur monnike beoefen is. Hierdie gebruik het uitgesterf, maar het in die 1960s weer opgeduik nadat Katolieke monnike soos Thomas Keating en Thomas Merton dit opnuut in Christelike kringe bekendgestel en laat herleef het.”

Waarom wil mense na die duistere gebruike van die Middeleeue terugkeer, terwyl hulle die Here op ‘n Bybelse manier, op ‘n waaksame en nugtere wyse, kan aanbid en sy Woord in hulle harte kan bêre dat hulle teen Hom nie sal sondig nie (Ps. 119:11)?