Print

Die Nuwe Wêreldorde as ‘n Sataniese Komplot

Written by Prof Johan Malan.

Satan se komplot teen die mens en sy godgegewe vryhede het reeds in die paradys begin toe hy deur misleidng ‘n alternatiewe koninkryk aan hom voorgehou het wat op leuens gebaseer is.

Die Here het die mens as ‘n biologiese, intellektuele en geestelike wese met ‘n vrye wil gemaak. As Skepper het Hy riglyne vir die mens se persoonlike, gesins- én volkslewe neergelê. God se orde vir volke van die begin af was volle selfbeskikkingsreg en identiteitshandhawing binne ‘n staatkundige, kulturele en godsdienstige raamwerk waarin sy oppergesag erken, sy wette en insettinge eerbiedig, en die morele en etiese beginsels van sy koninkryk stiptelik uitgevoer word – met ander woorde ‘n teokratiese bedeling waarin die verheerliking van die Here en die nakoming van die beginsels van sy ryk die hoogste ideale is.

Met die oog op die uitvoering van hierdie opdragte het die Here aan gesins- en staatshoofde gesag verleen. As deel van hulle gesagsbeoefening en verantwoordelikheid het God die natuurlike skepping op aarde ook aan die mens onderwerp deur hom te beveel om daaroor te heers en dit tot sy voordeel te benut. Menslike gesagsdraers binne familie- en volksverband is hierdeur in ‘n posisie van aanspreeklikheid teenoor God geplaas, wat steeds die opperheerser van sy skepping is. Met sy vrye wil het die mens van die begin af egter die keuse gehad om óf aan die Here gehoorsaam te wees en Hom as God te dien, óf om sy reëling van sake te verwerp en sodoende teen Hom te rebelleer. Hiervoor sou die mens ‘n duur prys betaal omdat hy deur sy ongehoorsaamheid en dwase optrede die guns en seën van God sou verbeur en daardeur homself eindeloos sou benadeel.

Mense wat nie hulle Skepper eer en dien nie deurdat hulle Hom minag en sy wettte verwerp, het geen bestaansreg op aarde nie en stel hulleself aan die oordele van God bloot. Hy kan hulle onmiddellik oordeel en hulle rebellie beëindig, soos in die dae van Noag en Lot en soos wat Hy ook in die komende groot verdrukking sal doen, maar in elk geval sal al die rebelle en sondaars by die eindoordeel hulle ewige straf in ‘n plek van verdoeming weg van God se aangesig af ontvang.

Die tragiese geskiedenis van die mensdom deur die eeue heen was een van ongehoorsaamheid teenoor die Here. Dit was nie God se wil dat die mens in sonde en ongeregtigheid moes val nie, daarom het Hy dit beslis nie voorbeskik nie. Die mens is deur Satan mislei en het op grond van sy vrye wil én teen sy beterwete na die duiwel geluister en sodoende geestelik gesterf en ‘n verduisterde, sondebelaaide gemoed gekry. Adam se geestelike doodsheid en sondige natuur het as ‘n oorerflike eienskap na al sy afstammelinge op aarde deurgedring en sodoende aan almal van hulle ‘n ingesteldheid weg van die Here en sy geregtigheid af gegee. Dit is waarom Satan soveel sukses behaal om mense individueel, in gesinsverband, in volksverband én ook op ‘n wêreldvlak tot verdere dade van rebellie en ongehoorsaamheid teenoor God te verlei.

Uit hierdie geestelik en moreel verdorwe toestand word mense geroep om uit die duisternis tot God se wonderbare lig te kom. Deur bekering en wedergeboorte verkry ons die goddelike natuur van die tweede Adam, Jesus Christus, en begin dan dadelik om God se koninkryk in ons eie lewens, ons gesinslewe én ons volkslewe te vestig en uit te brei.

In die Ou Testament lees ons van baie individue en gesinne asook van een volk, Israel, wat deel van God se koninkryk was en geroepe was om te wandel soos kinders van die lig en in die stryd teen Satan se koninkryk te oorwin. Hoe groter die groep, hoe meer dikwels het hulle van die Here se weë afvallig geraak en weer in sonde en ongeregtigheid verstrik geraak. Wat die volk Israel betref, het die Here die voorwaardes vir hulle geestelike herstel uit ‘n vervalle toestand só beskryf: “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kron. 7:14).

Wanneer God se volk, Israel, hulleself in nasionale verband voor die Here verootmoedig het, het dit by die koning begin wat op sy beurt die priesters én die hele volk tot hertoewyding aan die Here opgeroep het. Voorbeelde van nasionale toewyding was in die tyd van Dawid, Asa, Jósafat en Hiskia. Hierdie herlewings het meesal net een geslag lank geduur, en het die volgende geslag weer in afgodery en sonde verval. In die tyd van Elia was die verval in Israel só erg dat daar in ‘n volk van ‘n paar miljoen mense net 7000 was wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie (1 Kon. 19:18).

Wat gesinne betref, geld dieselfde situasie. Elkeen moet sy saak met die Here regmaak omdat lidmaatskap van die koninkryk van die hemel nie oorerflik is nie. Dit is ‘n algemene verskynsel dat daar in dieselfde gesin geredde én ongeredde mense is. In die eerste gesin, dié van Adam en Eva, het Kain die eerste moordenaar en Abel die eerste martelaar vir sy geloof geword. Verskeie geloofshelde deur die eeue heen het gelowige én ongelowige kinders gehad. Dink maar aan die voorbeeld van die regverdige koning Dawid en sy goddelose seun, Absalom.

In die lig van bogenoemde feite is Satan se metode van misleiding duidelk: hy wil soveel as moontlik individue in sy mag kry en daardeur seker maak dat die meeste gesinne in ‘n gemeenskap ook die slagoffers van geestelike misleiding is. Hiervandaan beweeg hy na die nasionale vlak van die volksregering in ‘n poging om die regeringshoof en sy amptenare ook van God afvallig te maak. Wanneer hy daarin slaag, is dit vanselfsprekend dat antichristelike grondwette, beleidsrigtings en onderwysstelsels op die hele volk afgedwing sal word. Hoe verder die verval na goddeloosheid en valse godsdienste vorder, des te meer verstewig Satan sy greep op die hele volk of nasie.

Hierna is daar nog die internasionale terrein waarin die duiwel baie belangstel. Dit is duidelik sy einddoel om absolute beheer oor die hele wêreld en al sy inwoners te verkry deur ‘n antichristelike diktator as hoof van ‘n wêreldregering aangestel te kry. Wanneer só ‘n regering gevestig word, lei dit altyd tot ‘n nuwe wêreldorde waarin ‘n bepaalde ideologie en valse godsdiens op alle volke afgedwing word. Nimrod se Babiloniese ryk en die bou van die toring van Babel was die eerste goddelose wêreldryk in die geskiedenis van die mensdom. Omdat die volke geen soewereinitiet onder die bewind van ‘n wêreldregering het nie, kan hulle na hartelus deur ‘n magtige diktator gemanipuleer, oorheers en onderdruk word.

Goddelose diktators misken nie alleen die volke se reg tot selfbeskikking nie, maar ontken ook God se oppergesag omdat hulle in sy plek aanbid wil word. Sedert 1990 het verskeie lande onder die beïnvloeding van Amerika en die Verenigde Nasies tot die stap oorgegaan om God se gesag openlik te misken en te verwerp deur humanistiese grondwette te aanvaar waarin geen melding van die Drie-enige God se oppergesag en posisie gemaak word nie. Suid-Afrika is ook een van dié lande wat die Christelik-nasionale beginsel en die soewereiniteit van God verwerp het deur ‘n grondwet te aanvaar waarin die staat die hoogste gesag het en alle gelowe gelykgestel word.

Indien die vroeëre kommunistiese magsuitbreiding in die wêreld in ag geneem word, het ten minste 44 lande in die 20ste eeu hulleself tot sekulêre state verklaar. In alle gevalle het dit tot beperkende wetgewing en die vervolging van hul onderdane gelei. Meer as 160 miljoen mense het in die 20ste eeu aan die hand van hul eie regerings in sekulêre state gesterf! Dit is onbegryplik dat daar ten spyte van al dié getuienis aan die einde van die 20ste eeu tot sekulêre grondwette teruggekeer word.

Dit is in ‘n tyd soos dié dat Psalm 2 finaal vervul sal word:

“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde (Christus) en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:1-12).

Volgens vers 2 word daar deur die nasies ‘n openlike veldtog teen God én die Here Jesus gevoer. Hulle misken God se oppergesag en bring ander gode voor sy aangesig. Hulle verwerp ook ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing, die versoening aan die kruis, Christelike onderwys, die Christelike etiek, ens. Hulle ag hulleself eenvoudig nie meer hieraan gebonde nie, en beskou Christelike beginsels as ‘n belemmering in hulle humanistiese vryheidstrewe: “Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” Dit, meen hulle, is ware vryheid, gelykheid en broederskap!

God sê egter uitdruklik dat Hy sy Seun, Jesus Christus, as Koning oor hierdie aarde gesalf het en nasies as sy erfdeel gegee het (v. 7-8). As hulle teen Hom in opstand kom, sal Hy hulle verpletter en stukkend slaan (v. 9). Dieselfde sal met hierdie goddelose regerings en hulle onderdane gebeur as wat met al die vorige wêreldregerings gebeur het wat God misken en verwerp het. Die oordele wag reeds op hulle, want vreeslik is dit om te val in die hande van ‘n lewende God (Heb. 10:31). Hulle sal voortgaan met hulle verwerping van die ware Christus, en dan noodwendig die Antichris (die dier van Openbaring) as wêreldheerser kry. Saam met hom, en as deel van sy militêre diktatuur, sal hulle teen die ware Christus veg wanneer Hy kom om sy koninkryk op die berg Sion te vestig. Saam met die Antichris sal sy misleide volgelinge ook verdelg word wanneer die ware Koning kom:

“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit (Jesus Christus), en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21).

Wil die regerings van die nasies, insluitende die Suid-Afrikaanse regering wat ook die weg volg van die verwerping van die Drie-enige God en die ontering van sy Naam deur Hom met die afgode gelyk te stel, hulle nie liewer vriendelik dog ernstig laat waarsku nie? “Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde” (Ps. 2:10). Die regters wat help om die goddelose grondwette en ander wette af te dwing waardeur hele nasies geestelik en moreel afvallig gemaak word, word saam met die politieke leiers vir hulle verraad teen God aanspreeklik gehou.

Vir hulle almal sê Psalm 2: “Dien die Here met vrees en juig met bewing.” Daar moet eerbied en ontsag vir die Here wees deur die konings en regters. Die leiers van ‘n land moet dus aan hulle volgelinge die regte voorbeeld stel. As hulle dit nie doen nie, wag daar vir hulle groot probleme: “Kus die Seun (Jesus Christus), dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam.”

‘n Persoon, ‘n groep of ‘n land wat sy toevlug tot die Here neem, volle erkenning aan Hom gee en waarlik in Hom glo, word gelukkig en geseënd genoem: “Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” Daar was in Nuwe Testamentiese tye verskeie volke met Christelike grondwette, waardeur die Naam van die Here oor die hele volk en sy instellings uitgeroep is. Die VSA het van sy stigting af vir 200 jaar lank, tot in 1990, ‘n Christelike grondwet gehad en tot ‘n magtige nasie ontwikkel. Sedert 1990 het hulle egter ook amptelik die sekulêre en multigodsdienstige weg begin bewandel en daardeur die afdraendepad na uiteindelike selfvernietiging gekies.

Die nuwe Suid-Afrika het dieselfde, tragiese keuse gemaak deur ook van staatsweë af die rug op die Drie-enige God te draai. Op ‘n soortgelyke wyse word die weg oral op aarde onder alle nasies na die antichristelike nuwe wêreldorde gebaan. Ideologiese klimaatskepping soos die volgende is nie net in Suid-Afrika aan die gang nie, maar onder alle nasies:

·       Internasionalisme kan nie seëvier as volksnasionalisme nog sterk funksioneer nie, daarom moet volksgebondenheid as van minder belang beskou word en deur die breër visie van wêreldburgerskap vervang word.

·       Eenheid kan nie seëvier as daar nog verdeeldheid, grense en groepsgebondenheid bestaan nie. Alle grense moet afgebreek en brûe van eenheid gebou word. Indien groepe wél erken en in stand gehou word, moet hulle nooit eksklusief wees nie, maar oop, verdraagsaam en akkommoderend ten opsigte van ander groepe.

·       ‘n Alliansie van alle godsdienste kan nie gevestig word terwyl daar sterk vooroordele teen hierdie idee is nie. Alle kerke en godsdienste moet gelykgestel word, en ekumenies by strukture betrek word waar hulle as gelyke vennote kan saamwerk en nader aan mekaar beweeg.

·       Die ideaal van godsdienseenheid sal slegs bereik word indien die volgelinge van alle gelowe glo dat hulle dieselfde God aanbid (universalisme). Dan sal hulle bereid wees om ook rondom dieselfde wêreldmessias verenig te word.

·       Onderwys moet oral multigodsdienstig wees, sodat die opkomende geslag volgens die inklusiewe en multigodsdienstige sienings van die nuwe wêreldorde opgevoed kan word. Christelike onderwys wat nie ekumenies is nie, moet deur alle regerings uitgefaseer word omdat dit eksklusief is.

·       Politieke ideologieë en grondwette moet geensins erkenning aan die Drie-enige God van die Christendom gee nie, omdat dit ander gelowe degradeer, uitsluit en dus nie vir die kosmiese christus  van alle gelowe aanvaarbaar sal wees nie. Grondwette moet sekulêr of multigodsdienstig wees.

Al hierdie propagandistiese stellings vorm ‘n wesenlike deel van die voorbereidings vir die Antichris se wêreldstaat. Ons wat die lig het, moet soos nooit tevore nie ons lig laat skyn. Selfs al raak die hele land geestelik afvallig deur die Here Jesus se Naam te verloën en sy Woord te verwerp, dan mag ons nooit deel van die vervalproses word nie. Ons moet aanhou om kragtig te getuig van die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Hierdie boodskap is die enigste oplossing vir ‘n verloregaande wêreld. Indien die wêreld, ook ons eie land, hierdie boodskap verwerp, dan moet ons nog steeds soos Josua sê toe hy die afvalliges só aangespreek het: “Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien… die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het… maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos. 24:15).

Wanneer ander godsdienste en antichristelike idees in ‘n land en sy onderwysstelsel bevorder word, moet ons by ons oortuigings bly en gepaste stappe neem om te verseker dat ons vir ons kinders ‘n Christelike opvoedingsomgewing skep om hulle teen misleidng te beskerm. Ons moet egter besef dat wanneer ons dit doen, ons teen ‘n gedugte, postmodernistiese stroom van wêrelddenke standpunt inneem en dus baie sterk van ons eie Christelike beginsels oortuig moet wees. Die Here Jesus het ons teen teëstand van hierdie aard gewaarsku toe Hy gesê het: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 16:33). Hy is die oorwinnaar wat spoedig sal terugkom om die antichristelike nuwe wêreldorde te vernietig en ‘n Christelike nuwe wêreldorde in die plek daarvan te stel.

AW Tozer 22