Print

Die Intergeloofsbasis van die Nuwe Wêreldorde

Written by Prof Johan Malan.

In die gebeure ná die terroriste-aanvalle van 11 September 2001 het die wêreld 'n tydperk van versnelde transformasie na 'n nuwe wêreldorde betree waarin godsdiens 'n groot rol speel. 'n Verenigde nuwe wêreldorde vereis nie alleen die politieke en ekonomiese vereniging van die wêreld nie, maar ook sy godsdienstige vereniging. In die ontluikende internasionale orde word die vroeëre vyande, Rusland en die VSA, toenemend verenig teen die wêreldwye bedreiging van terrorisme. Dit is die mening van Lorin Smith van Christian Research Projects, 'n bediening wat internasionale gebeure en hulle invloed op die Christendom bestudeer.

Smith kom verder tot die gevolgtrekking dat die Christendom in die konstruksie van 'n nuwe wêreldorde 'n ideologiese aanslag op sy basiese geloofsoortuigings sal ervaar wat erger is as enigiets wat dit in die afglope twee millennia beleef het. In die nuwe wêreld moet alle godsdienste as geldige paaie na God erken word. Godsdienstige eksklusiwiteit, absolutisme en dogmatisme sal as potensiële bedreigings vir wêreldvrede en oorlewing op die planeet beskou word. Hans Kung, direkteur van die Instituut vir Ekumeniese Navorsing aan die Universiteit van Tubingen, beklemtoon hierdie punt só in sy boek Global Responsibility: In Search of a New World Ethic: "All the religions of the world today have to recognise their share in responsibility for world peace. And therefore one cannot repeat often enough the thesis for which I have found growing acceptance all over the world: there can be no peace among the nations without peace among the religions. In short, there can be no world peace without religious peace."

Hierdie mening vind aansluiting by 'n groeiende aantal intergeloofsnavorsers in die wêreld. Tydens die 1999 vergadering van die Wêreld Ekonomiese Forum in Switserland het Dominic Peccould, adviseur vir sosio-godsdienstige sake in die Internasionale Arbeidskantoor in Genève, oor die onderwerp "Godsdiens as 'n wêreldverskynsel vir die nuwe millennium" gepraat. Hy het gesê: "Fundamentalisme is 'n wêreldwye bedreiging. Die manier waarop dit teëgewerk moet word is om die siening te verander dat redding van die nakoming van sekere godsdienstige reëls afhang: alle mense is gered."

Die eerste minister van Spanje, Jose Maria Aznar, het die siening gedeel van 'n wêreld wat vry van die bedreiging van religieuse fundamentalisme is. Hy het gesê: "Ons moderne waardestelsel respekteer alle idees en gelowe. Ons kan egter nie hierdie respek verwar met die verlening van erkenning aan fanatisisme wat ons daarvan weerhou om op 'n beskaafde manier met mekaar saam te leef nie. Ons moet almal daartoe bydra om 'n stelsel van vrede en skuriteit sonder verdeeldheid te bou – 'n stelsel wat vandag meer haalbaar as in enige vorige tydperk is. Om terrorisme te kan beveg, vereis 'n sterker wêreldorde wat op respek vir alle gelowe gebaseer is."

Tydens die 2002 vergadering van die Wêreld Ekonomiese Forum, het godsdiensleiers wat genooi is om dit by te woon, 'n begeerte uitgespreek om nouer met sake- en politieke leiers saam te werk om 'n regverdige en gelykberegtigde nuwe wêreldorde tot stand te bring. Hulle het gesê: "We enthusiastically endorse the project of initiating  and continuing dialogue in order to create a framework that integrates leaders of religion, business, politics and civil society. Let us join forces to seize this opportunity."

Die motiewe van 'n nuwe wêreldorde wat op versoening tussen alle godsdienste gebou is, is egter nie so eerbaar as wat klink nie, omdat dit in werklikheid op die uitwissing van die evangeliese Christendom gemik is. Alan Morrison, hoof van Diakrisis Internasionaal, 'n Christelike apologetiese bediening in Frankryk, het die volgende opmerking oor hierdie nuwe lewens- en wêreldbeskouing gemaak: "What we have here is world governance and world religion beginning to come together in a common utopian purpose to establish a global order without the Christ of the Bible and without the missionary encumbrance of Christian evangelism. The purported reason behind these gatherings is the establishment of peace on earth, but the real intention is the eradication of the Christian gospel."

Omdat die Christelike geloof basies evangelies is, sal daar noodwendig konflik wees tussen die Christen wat Jesus se stelling ernstig opneem dat "Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie" (Joh. 14:6) en diegene wat glo dat alle gelowe gelyke en geldige paaie na God toe is. In 'n wêreld wat toenemend verenig word deur die samevloeiing van ekonomieë, volke, regstelsels, kulture, godsdienste en etiese reëls, sal dogmatiese stellings soos dié van Jesus in Johannes 14:6 nie geduld word nie.

Die Rol van die Dalai Lama

Afgesien van die multigodsdienstige temas wat op 'n groot aantal internasionale forums bespreek word, beklemtoon die onderskeie wêreldgodsdienste ook self deur hulle leiers die belangrike rol van godsdiens om vrede en harmonie op aarde te skep. Alle feite wat op verdeeldheid, onversoenbaarheid en konfrontasie dui, word verswyg sodat die misleides oral ter wille van eenheid en wêreldvrede kan hande vat. As 'n gevallestudie van hierdie valse ekumene kyk ons na die rol van Tibetaanse Boeddhisme. Die Dalai Lama en sy beskouings oor liefde en meegevoel neem wêreldwyd in populariteit toe. Hy is die 14de inkarnasie van die Dalai Lama van Tibet, maar woon sedert 1959 in ballingskap in Dharamsala, Indië, omdat hy teen die Sjinese oorheersing van Tibet in opstand gekom het. Hy sê onder meer:

"Ons kan alles verwerp – godsdiens, ideologie en wysbegeerte, maar ons kan nie bekostig om liefde en meegvoel in ons lewens te ontbeer nie. Dit is my ware godsdiens en eenvoudige geloof. Daar is geen behoefte aan 'n tempel, 'n kerk, 'n moskee, 'n sinagóge of 'n ingewikkelde filosofie of dogma nie. My hart en gees is die tempel. My dogma is liefde en meegevoel teenoor almal. Solank as wat ons daagliks volgens hierdie beginsels leef, ongeag of ons in Boeddha, in God, en enige ander godsdiens of in geen godsdiens glo nie, is daar geen twyfel dat ons gelukkig sal wees nie."

Ten spyte van sy intergeloofsoriëntasie is die Dalai Lama 'n toegewyde Boeddhis wat elke oggend twee ure lank mediteer. Hy glo dat hy as die 15de inkarnasie van die Dalai Lama sal terugkeer om die stryd vir die bevryding van Tibet uit ballingskap voort te sit. Sedert die laat 1970's het hy honderde duisende mense by die Kalachakra Tantra ingelyf, wat 'n Boeddhistiese ritueel vir wêreldvrede en intergeloofsdialoog is. Kalachakra verwys na die hoogste Tibetaanse god van die tyd, terwyl Tantra na enige van die heilige tekste van die Tibetaanse Boeddhisme verwys. Die Kalachakra Tantra is tiende eeus in oorsprong en die jongste van alle Tantra tekste. Die Lamas beskou dit as die hoogste ontwikkeling van alle Boeddhistiese filosofieë.

Die Kalachakra Tantra word voorgestel as 'n waardige en verhewe bydrae vir wêreldvrede, die naasbestaan van alle lewende wesens, intergeloofsdialoog, verdraagsaamheid tussen volke en rasse, die gelykheid van die geslagte, 'n ekologiese bewussyn, die vrede van die hart, en die geestelike ontwikkeling en geluksaligheid van die volgende millennium. Die Dalai Lama sê: "Omdat ons almal hierdie klein planeet aarde deel, moet ons leer om in harmonie en vrede met mekaar én met die natuur te leef." Sy inlywingsrituele in Kalachakra Tantra neem die vorm van byeenkomste vir wêreldvrede aan wat bokant die verskillende godsdienste en kulture verhewe is.

Gedurende 2002 is 'n geraamde 500 000 mense deur die Dalai Lama by die Kalachakra Tantra kultus ingelyf, waarvan 400 000 in Januarie in Indië ingelyf is. 'n Groot, multi-nasionale byeenkoms is in Oktober 2002 in Graz, Oostenryk, gehou, waar die teenwoordiges ook deel van die Kalachakra Tantra beweging gemaak is.

Verskeie navorsers het egter indringende vrae, soos die volgende, oor hierdie Boeddhistiese beweging vir wêreldvrede begin vra: Is Kalachakra Tantra en die mite van Sjamballa regtig vreedsaam? Bevorder dit werklik 'n harmonieuse samelewing? Dra dit daadwerklik by tot vrede, geregtigheid, die gelykheid van geslagte, godsdienstige verdraagsaamheid en 'n goeie verstandhouding tussen volke? Lewer dit 'n omvattende, demokratiese, geweldlose bydrae tot wêreldvrede?

Afgesien van Sjinese bronne word die Lamaïsme (Tibetaanse Boeddhisme) en die ballingskap van die 14de Dalai Lama ook deur verskeie Westerse bronne aan fel kritiek onderwerp. Die Tibet mite is 'n magsindroom van die Dalai Lama. Die voorstelling van die Kalachakra Tantra as 'n beweging vir verdraagsaamheid en wêreldvrede is 'n uiterste voorbeeld van godsdienstige misleiding. Die Dalai Lama stel hierdie kultus as 'n intergeloofs-vredesbeweging voor, en het ná die voorvalle van 11 September toe wêreldgebeure toenemend in die teken van oorlog begin staan het, sy vredespogings aansienlik verskerp. Hierdie soort opportunisme om sy gevolg in die wêreld uit te brei, is egter glad nie in ooreenstemming met die ware betekenis van Kalachakra Tantra nie. Die basiese implikasies van hierdie Boeddhistiese teks is die volgende:

1.     'n Verbintenis tot geheimhouding word op inisiante afgedwing. Geen inligting oor Kalachakra Tantra mag aan nie-lede bekend gemaak word nie. 'n Vloek word op die oortreders van dié reël uitgespreek, tot die effek dat só 'n persoon se kop en hart sal oopbars terwyl hy in die diepste hel smoor.

2.     In die agt hoogste ritusse word dinge gesê wat 'n totale weerlegging van die Dalai Lama se waardestelsel is. Die Kalachakra Tantra is hoegenaamd nie pasifisties nie aangesien dit 'n bloedige godsdienstige oorlog vir wêreldoorheersing tussen Boeddhiste en nie-Boeddhiste voorspel. Hierdie aspek staan in verband met die mite van Sjamballa, in terme waarvan lede bereid moet wees om as Sjamballa soldate aan hierdie oorlog deel te neem.

3.     Die Kalachakra teks noem uitdruklik die leiers van die drie monoteïstiese gelowe (Judaïsme, die Christendom en Islam) as die belangrikste teëstanders van Boeddhisme. Onder hulle word die volgende leiers uitgesonder: Adam, Henog, Abraham, Moses, Jesus, Mohammed en Mathani Mahdi. Die KT teks noem hulle 'n familie van demoniese slange. Weens die anti-Semitiese aard van die teks, gebruik verskeie van die radikale anti-Semitiese groepe in die wêreld die KT propaganda teen Jode, Moslems en Christene. Die KT voorsien ook 'n groot oorlog tussen Moslems en nie-Moslems, waarin Islam as die belangrikste teëstander van die Boeddhisme genoem word.

Die twee gesigte van die intergeloofsbeweging

Uit die voorgaande oorsig van die intergeloofsbeweging as 'n instrument om wêreldvrede te bevorder, sowel as die daaropvolgende oorsig van die finale doelstelling van Tibetaanse Boeddhisme om 'n heilige oorlog teen ander godsdienste te voer, is dit duidelik dat die intergeloofsbeweging twee heel verskillende gesigte het. Die een is op vrede en harmonie tussen verskille gelowe en volke ingestel, en die ander op ‘n bloedige konfrontasie ter wille van totale oorheersing deur net een godsdiens. Uiteindelik sal 'n botsing van godsdienstige belange meer dood en vernietiging op aarde aanrig as al die ander konflikte tesame. Die verenigde godsdienste sal nie vrede bring nie, maar oorlog. Slegs 'n kort tydperk van 'n valse vrede sal op aarde bestaan voordat hulle hoofleier, die Antichris, homself ook teen die God van die hemel sal verhef en 'n wêreldwye skrikbewind sal voer om sy politieke én godsdienstige teëstanders uit te wis.

Die god van hierdie wêreld [Satan] verblind die sinne van die ongeredde mense (2 Kor. 4:4) om hulle te verenig vir die openbaring van die wêreldregering en universele messiasskap van die Antichris. Die leuen word wyd versprei dat alle gelowe dieselfde skeppergod aanbid en dat almal van hulle dieselfde boodskap van liefde, verdraagsaamheid en onderlinge aanvaarding verkondig. Hierdie valse aannames vorm die grondslag van die multigodsdienstige ekumeniese beweging, wat vinnig in die hele wêreld veld wen. Bewegings soos die Verenigde Godsdienste Inisiatief en die Parlement vir Wêreldgodsdienste is bekende intergeloofsforums. Wêreldliggame soos die Verenigde Nasies stel hulle hoop in die ekumeniese beweging om 'n wêreldbroederskap tussen alle mense te skep en die mensdom te verenig in voorbereiding op die instelling van die nuwe wêreldorde.

Hierdie Babiloniese gees van handevat om die wêreld te verenig, is besig om vinnig na alle misleide godsdiensleiers in die wêreld te versprei. Hulle baan die weg vir Openbaring 6 se ruiter op die wit perd wat as 'n valse vredevors op die wêreldtoneel sal verskyn. In nabootsing van Christus en sy bruid, die ware kerk, sal die Antichris ook 'n bruid hê – die moederorganisasie van al die valse gelowe. In Openbaring 17 word gesê dat sy op die dier se rug sal ry. Haar naam is "Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde." Sy het die bloed van die heiliges aan haar hande, en daardeur word sy as die groot teëstander van die koninkryk van God op aarde beskryf.

Dit is 'n bekende Bybelse feit dat evangeliese gelowiges hulleself nie in 'n ekumeniese assosiasie met die nie-Christelike gelowe kan begewe nie: "Watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? … Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here" (2 Kor. 6:15-17).

Ná die koms van die Antichris sal die ekumeniese organisasie van valse gelowe slegs 3½ jaar hê om heerskappy te voer en die hele wêreld agter die verering van die Antichris as die universele messias van alle gelowe te verenig. Daarna sal die Antichris homself van die posisie van wêreldmessias af na dié van God verhef en die onvoorwaardelike aanbidding van alle mense opeis. Paulus sê dat hierdie teëstander homself "sal verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is" (2 Thess. 2:4).

Op hierdie oomblik sal die tweede gesig van die intergeloofsbeweging geopenbaar word. Dit sal dan duidelik wees dat die verenigde godsdienste in plaas van blywende vrede die toneel vir die grootste konfrontasie op aarde geskep het. Die ekumeniese beweging self sal die eerste slagoffer wees wanneer die Antichris die verpligte aanbidding van homself as God instel. Openbaring 17:16 sê: "En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand."

Die Antichris sal dan al sy volgelinge mobiliseer – dit is hulle wat hom aanbid en sy nommer op hulle regterhand of voorkop ontvang het – om die koms van die ware Christus by die Olyfberg in Jerusalem in te wag en vir wêreldheerskappy teen Hom te veg. Dit sal 'n geveg tussen twee koninkryke wees: dié van God en dié van Satan. Dit sal na 'n beslissende neerlaag vir die Antichris en sy wêreldmag lei, en na die sigbare vestiging van Christus se koninkryk op aarde. Die intergeloofsbeweging met al sy valse eenheids- en vredespraatjies dien dus 'n uiters bose doel om die mensdom te mislei om met die komende Antichris saam te werk en aan sy oorlog teen die ware Christus deel te neem. Dit sal ‘n oorlog tussen twee godsdienste wees – die enigste ware godsdiens van die Drie-enige God en die alliansie van die Antichris se valse godsdienste. Waar is jou lojaliteit – by die evangeliese (Bybel-getroue) of die ekumeniese (kompromiemakende) Christendom?

Net die Here Jesus kan ware vrede in mense se harte én op aarde skep. Hy het gesê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh. 14:27). Daar is ‘n groot verskil tussen Christelike en wêreldse vrede. Eersgenoemde is op die versoening tussen God en die mens deur die kruisdood van Jesus gebaseer en laasgenoemde op humanistiese onderhandelings en kompromie wat nie enige haatdraendheid of ideologiese en godsdienstige verskille blywend uit die weg kan ruim nie.

Het jy al jou hart en lewe vir die Vredevors, Jesus Christus, gegee deur jou tot Hom te bekeer en al die sondes wat skeiding tussen jou en Hom bring, te bely en te laat staan? As jy nog op die multigodsdienstige dwaalweë van die wêreld is, sal jy nie blywende vrede vind nie. Net die Here Jesus is ons vrede en geregtigheid (Ef. 2:13-14; Fil. 3:9) en Hy alleen kan aan jou ‘n vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.

Watchman Nee 88