Print

Kanada en die Nuwe Wêreldorde

Written by Prof Johan Malan.

Sekere lande speel ‘n baie groot rol in die hervormings wat na ‘n nuwe wêreldorde sal lei. Die volgende oorsig van hervormings na ‘n nuwe wêreldorde uit ‘n Kanadese perspektief is na aanleiding van die artikels van Carl Teichrib opgestel. Baie van hierdie materiaal is ook in Gary Kah se boek, The New World Religion van 1999 opgeneem. Die laaste deel van hierdie oorsig, “Die gevare van globalisering,” is deur Johan Malan opgestel.

Die periode wat ná die beëindiging van die koue oorlog in 1990 ingetree het, staan in die teken van ‘n wêreldwye eksperiment in internasionale ontwikkeling. Dit is die mening van Maurice Strong, ‘n Kanadese hervormer van die Verenigde Nasies wat aan die hoof van ‘n taakspan is wat hom vir hierdie doel beywer. Hy is ook van mening dat Kanada in ‘n posisie is om ‘n unieke bydrae tot die 1992 Rio Aarde-beraad se belofte van volhoubare ontwikkeling te maak. Met die oog hierop behoort Kanada ‘n nuwe visie van sy eie toekoms binne die ontluikende verband van internasionale leierskap te hê. Alle wêreldburgers behoort onder die gesag van ‘n wêreldregering verenig te word en die gemeenskaplike visie na te streef om ons planeet en sy natuurlike hulpbronne van oorbenutting en uitwissing te red.

Die Kanadese eerste minister het gesê: “Ons is een wêreld, en die mense in Kanada is intens hiervan bewus. Verantwoordelike internasionale burgerskap is een van ons trotse gemeenskaplike waardes.” Verskeie internasionale konferensies oor globalisasie is deur Kanada geborg om te verseker dat hulle op die voorpunt van pogings is om die Verenigde Nasies beter voorbereid op die uitdagings van die toekoms te maak. Kanada bevorder ook die pad na globalisme deur sy bydrae tot die omgewingsintelligentsia – dit is die ideologie dat omgewingsbewaring ‘n basiese vereiste vir die oorlewing van die mens op aarde is. Neem in dié verband die volgende aanhalings uit die 1992 byeenkoms van die Kanadese Raad vir Internasionale Samewerking in ag:

“Ons het behoefte aan ‘n verenigde wêreld om die gemeenskap van nasiestate op ‘n internasionale vlak te vervang. Die Euro-Amerikaanse model wat tans die wêreld oorheers is besig om die aarde en sy hulpbronne te vernietig en baie mense onbekwaam en van loonarbeid afhanklik te maak.” “In die een-wêreld model verloor politiek sy links teen regs polarisasie en vereenselwig homself in die plek daarvan met ‘n basiese besorgdheid oor die welstand van die ekosisteem… Demokrasie word deur ‘n biokrasie vervang waarin nie mense nie, maar lewensonderhoudende sisteme, van grondliggende belang is. Demokrasie bly ‘n deel van die model, op plaaslike én internaionale vlakke, maar slegs as ‘n onderdeel van ‘n groter sisteem. Deelname is meer as net mense se fisiese teenwoordigheid, en word verdiep deur ook ‘n kulturele en geestelike dimensie aan te neem… Ten einde hierdie begrippe te vestig, begin ons deur die gemeenskap weer bymekaar te bring en die stand van grond en ander natuurlike hulpbronne in oënskou te neem. Ons moet besluit hoe die gemeenskap moet ontwikkel en ook wie die hulpbronne sal beheer en bestuur.”

Die volgende stelling deur die Kanadese federale regering aan die Verenigde Nasies bevat ‘n soortgelyke boodskap – ‘n volhoubare wêreldorde wat op effektiewe wêreldbeheer gebaseer is: “Kanada glo dat die vestiging van ‘n internasionale finansiële en ekonomiese stelsel wat volhoubare ontwikkeling sal bevorder, die hoeksteen van pogings moet wees om Agenda 21 te implementeer. Kanada is ten gunste daarvan dat internasionale organisasies hervorm moet word om hulle doeltreffendheid in die bevordering van wêreldwye volhoubare ontwikkeling te verseker.”

Van al die Kanadese provinsies het Maurice Strong se tuisprovinsie van Manitoba een van die aktiefstes geword om die beginsels en agendas van volhoubare ontwikkeling te bevorder. Een van die belangrikste inisiatiewe in hierdie verband het in Oktober 1990 in Winnipeg, Manitoba plaasgevind toe die World Environmental Energy and Economic Conference, wat ook as World 1990 bekend gestaan het, deur meer as 3000 internasionale afgevaardigdes bygewoon is.

Om te verseker dat wêreldwye volhoubare ontwikkelingsinisiatiewe positiewe gevolge oplewer, het World 1990 die belangrikheid van openbare onderwys as ‘n agent vir verandering beklemtoon. Dennis Chisman en Jack Holbrook van die Internasionale Raad van Verenigings vir Wetenskapsonderrig het ‘n hoofstuk tot die World 1990 verslag bygedra met die titel: “Die toekomstige rigting van volhoubare ontwikkleing in die kurrikulum.” Hierin het hulle onder meer gesê: “Die rol van onderwysers sal noodwendig moet verander. Hulle sal meer betrokke moet raak by die fasilitering van veranderde houdings en hulp aan studente om nuwe waardes aan te leer, eerder as om net feitelike kennis aan hulle oor te dra… Die oorhoofse strategie is om kursusse te ontwerp met die oog op ‘n samelewing wat in volhoubare ontwikkeling geletterd is.” In hierdie nuwe benadering word die belangrikheid van waardes in onderwys, insluitende gesinsbeplanning, interkulturele verdraagsaamheid, die oordra van tegnologiese kennis en omgewingsgeletterdheid beklemtoon. Hierdie sake is ook op die Rio Aardeberaad van 1992 geopper.

Ontstellend soos wat hierdie opvoekundige beleid is, was die mees verraderlike aspek van World 1990 die voorlegging vir die skepping van ‘n groen grondwet vir die wêreld wat op die beginsels vir volhoubare ontwikkeling gebaseer is. Dit is duidelik gestel dat die revolusionêre groen grondwet ook voorskriftelik oor menseregte sal wees, op só ‘n wyse dat Christelike waardes hoegenaamd nie daarin sal geld nie. Alle gelowe en verskillende sienings oor die lewe sal gelykwaardig erken moet word. Oor die implikasies van hierdie grondwet is gesê:

“Popular or not, green governments will oppose any culture if it proves to be prejudicial by means of gender, age, colour, race, religion, belief, sexual orientation, mental or physical condition, marital status, family composition, source of income, political belief, nationality, language preference or place of origin… Each nation’s degree of dedication to educating the people would be the first indication of green government. The education process would centre on the need for a Global Green Constitution.”

Nog meer drastiese maatreëls is voorgestel, want World 1990 het uitdruklik gevra dat ‘n internasionale polisiestaat gevestig moet word met die mag om toe te sien dat die agenda vir die nuwe wêreldorde oral stiptelik uitgevoer word. Die feit word aanvaar dat wêreldpolitiek nodig is, maar dit bly steeds ‘n probleem hoe bindende ooreenkomste afgedwing kan word. Sanksies sal teen lande ingestel moet word wat nie internasionale beleid eerbiedig met betrekking tot sake wat ons oorlewing op die planeet raak nie. Ten einde die planeet teen biologiese verwoesting te beskerm, sal daar ‘n baie sterk afskrikmiddel teen verkeerde optredes moet wees. Hierdie afskrikmiddel moet wêreldwyd oor nasionale grense strek en oral gesag kan afdwing ten einde eko-vandale daarvan te weerhou om eensydig op te tree. ‘n Wetstoepassingsagentskap moet die reg hê om oral op te tree sonder ‘n uitnodiging deur die land waarin die oortredings gepleeg word. Daar moet dus ‘n agentskap wees wat vir alle nasies aanvaarbaar is. Dit sal doeltreffende regering in terme van die “Global Green Constitution” moontlik maak.

Beginsels van die nuwe wêreldorde

Uit hierdie kort oorsig oor Kanada se bydrae om die ontluikende wêreldsamelewing te bevorder, blyk die volgende beginsels van die nuwe wêreldagenda:

·        ‘n Nuwe visie vir internasionale leierskap. Alle wêreldburgers moet onder die gesag van een wêreldregering verenig word ten einde die planeet en sy hulpbronne van uitwissing te red. Die Rio Aarde-beraad van 1992 en die 2002 Sandton-beraad oor volhoubare ontwikkeling het wêreldleiers byeengebring om hulleself aan hierdie doel toe te wy. Die vordering wat gemaak word, is egter stadig. As gevolg hiervan is meer en meer leiers ten gunste van die totstandkoming van ‘n wêreldregering met sterk magte om sy besluite en beleidsrigtings ter wille van die hele mensdom se oorlewing universeel af te dwing.

·        Die wêreldstaat moet op die beginsels van wêreldsosialisme gebaseer wees. Gedeelde waardes vir die gelyke behandeling van alle mense en die bevordering van volhoubare ontwikkleing is van die uiterste belang. Sosialistiese menseregte word vir die wêreldsamelewing gedefinieer ten einde die planeet aarde kollektief te kan beskerm.

·        ‘n Groen konstitusie vir die wêreld moet aanvaar word waarin die behoud van die ekosisteem die grootste besorgdheid is. Demokrasie moet deur biokrasie vervang word omdat lewensondersteunende stelsels van die grootste belang is. Geen ander menslike sake mag voorrang bó dit geniet nie.

·        Die wêreldregering moet vir ‘n internasionale finansiële en ekonomiese stelsel voorsiening maak om die gelyke verspreiding van rykdom en gelyke toegang tot hulpbronne te verseker. Belastings sal ook deur die wêreldregering gehef word om sy programme te finansier.

·        Deelname op ‘n wêreldvlak het ook ‘n geestelike dimensie. Dit moet ‘n heilige misie wees om moeder aarde en haar hulpbronne van besoedeling, oorbenutting en uitwissing te red.

·     Openbare Onderwys is ‘n belangrike agent vir verandering in die wêreld. Dit behels waardesonderrig eerder as onderrig oor feitelike kennis. Hierdie waardes behels bevolkingsbeheer, interkulturele en intergodsdienstige verdraagsaamheid, omgewingsgeletterdheid, ens.

·     Wêreldwye wetstoepassing, selfs al beteken dit ‘n globale polisiestaat, sal nodig wees om die vernietiging van die omgewing te voorkom. Só ‘n meganisme sal net werk indien dit deur ‘n wêreldregering met sterk uitvoerende magte gesanksioneer word.

Die gevare van globalisme

So goed en nodig as wat wêreldstrategieë vir die bevordering van volhoubare ontwikkeling is, behoort wêreldleiers ernstig na die gevolge daarvan te kyk om die Bybelse beginsel van die selfbeskikkingsreg van nasies ten gunste van ‘n wêreldregering op te offer. Gesamentlike aksies deur soewereine state op internasionale forums is vér beter as om voor die mag van ‘n wêreldregering te kapituleer, omdat laasgenoemde maklik in die hande van ‘n wêrelddiktator kan val wat sy groot magte geweldig sal kan misbruik. Nasies wat geïnternasionaliseer word deur hulleself onder die grondwet van ‘n wêreldregering te verenig, verwerp effektief God se orde van begrensde, onafhanklike nasies soos in Handelinge 17:26 bepaal. Hulle rebelleer ook teen God deur multigodsdienstige konstitusies te aanvaar waarin die oppergesag van die Drie-enige God nie erken word nie. Sulke nasies sal nie deur God geseën word nie, maar kom onder sy oordele.

Die sterk beklemtoning van waardesonderrig (sg. “values education”) eerder as die aanleer van feitelike kennis, sal ewe nadelige gevolge hê. Dit sal mense oplewer wat akademies onbekwaam is, maar ideologies sterk veranker in die beginsels van internasionale sosialisme en die groen grondwet van die wêreld (die “Global Green Constitution”). ‘n Wêreld-ingesteldheid sal op hierdie wyse in mense geskep word, waardeur Christelik-nasionale denke heeltemal uitgewis sal word.

Volgens Openbaring 13 sal die komende wêreldregering waaraan daar nou reeds gewerk word, deur die Antichris oorgeneem en deur hom gebruik word om die mees verwoestende diktatuur van alle tye in te stel. Hy sal die mensdom van hulle politieke vryheid ontneem deur beheer oor alle volke en nasies oor te neem (Op. 13:7). Hulle sal hul godsdiensvryheid verloor en gedwing word om hom alleen te aanbid (Op. 13:15), terwyl ekonomiese vryhede ook sal verdwyn omdat niemand sonder die Antichris se naam en nommer op hulle regterhand of voorkop toegelaat sal word om te koop en te verkoop nie (Op. 13:16-18).

Die groen grondwet van die wêreld sal misluk in sy pogings om die lewegewende sisteme van die omgewing te beskerm. Die Antichris sal die wêreldregering wat deur hierdie naïewe mense ingestel is, gebruik om die ekosisteme en natuurlike hulpbronne van die planeet uitermate te verwoes. Hy sal nie net ‘n verwoester van menselewens wees nie, maar ook van God se natuurlike skepping. Gedurende die Antichris se skrikbewind sal God ook sy oordele oor ‘n rebelse wêreld uitstort, en daardeur die oorlewingskanse van diegene wat Hom ten gunste van humanistiese strategieë en afgodediens verwerp het, feitlik heeltemal beëindig. In Openbaring 8 word ‘n gedeeltelike ekologiese ineenstorting in die wêreld soos volg beskryf:

“En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ‘n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand. En die tweede engel het geblaas, en iets soos ‘n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En ‘n derde van die see het bloed geword, en ‘n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en ‘n derde van die skepe het vergaan. En die derde engel het geblaas, en ‘n groot ster wat soos ‘n fakkel brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op ‘n derde van die riviere en op die waterfonteine. En die naam van die ster word genoem Alsem; en ‘n derde van die waters het als geword, en baie mense het gesterwe van die water” (Op. 8:7-11).

In Openbaring 16 word ‘n totale ekologiese ineenstorting beskryf wat teen die einde van die groot verdrukking sal plaasvind:

“En ek het ‘n groot stem uit die hemel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit. Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het. En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van ‘n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe. En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword… En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug… En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie… die stede van die nasies het geval… En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar [dit is 50 kilogram], het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.”

Dit sal die tragiese einde van ‘n rebelse mensdom se wêreldsamelewing wees wat op grond van humanistiese en multigodsdienstige pogings ingestel is om die planeet te red. Slegs nadat Jesus Christus teruggekom het, sal daar ‘n wêreldregering van vrede en geregtigheid ingestel word. Die natuur sal grootliks geseën word en selfs die woestyne sal bloei en plante van naam oplewer. Die aarde se opbrengs van voedsel sal só groot wees dat die vorige oes nog die klaar ingesamel sal wees wanneer die volgende plantseisoen aanbreek nie (Miga 4:3-4; Amos 9:13-15; Jes. 65:21-23; Ps. 65:9-13). Daar sal ook harmonie in die diereryk wees. Die leeu sal by die lam lê en strooi eet soos ‘n os omdat die Here ook ‘n nuwe verbond met die diere sal sluit (Jes. 11:6-9; 65:25; Hos. 2:18).

Jesus Christus is die enigste hoop vir ‘n gevalle en verdorwe mensdom. Net Hy kan ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe natuur aan ons gee, asook sterk morele beginsels en ‘n sin vir verantwoordelikheid om ons natuurlike hulpbronne reg te bestuur. Goeie Christelike opvoeding sal landsburgers van ‘n hoë standaard oplewer om God én die mens beter te kan dien.

Kanada én die hele internasionale gemeenskap moet veel eerder die weg van die Bybel volg as hulle vrede onder die nasies wil skep, eerbare internasionale ooreenkomste wil sluit en ook die aarde en sy hulpbronne van uitwissing wil red.