Print

Onderwys vir die Nuwe Wêreldorde

Written by Prof Johan Malan.

Die Verenigde Nasies se “Global Education Project” is in Robert Muller se “Core Curriculum for the World” (Kernleerplan vir die Wêreld) gefundeer. Hy is 'n voormalige assistent sekretais-generaal van die VN. Hierdie generiese kernleerplan vir die wêreld is reeds in 1982 opgestel toe dr. Muller aan die VN verbonde was. Daarna is hy as die kanselier van die Universiteit vir Vrede aangestel, waar hy voortgegaan het om sy idees oor 'n universele onderwysprogram te propageer. Op 'n internasionale, VN geborgde onderwyskonferensie het hy in 1989 gesê:

"Ons het die behoefte aan 'n nuwe onderwysstelsel vir die wêreld. Universele opvoeding, nl. die opvoeding van kinders in die universele tuiste van die wêreldfamilie, maak goeie vordering. Ons moet egter verder as dit gaan. Ons het behoefte aan kosmiese onderwys wat deur godsdiensleiers soos Maria Montessori bepleit word. Ons benodig 'n holistiese onderwysstelsel waarin die samehang van die planeet aarde en die heelal geleer word."

Die Kernleerplan vir die Wêreld is baie sterk op multigodsdienstige geestelike waardes ingestel. Wanneer dr. Muller en sy volgelinge van God praat, dan praat hulle nie van die Christelike God van die Bybel nie, maar van ‘n onpersoonlike element van godheid in die hele skepping. Die planetêre bedeling is vir hulle die komende bedeling van Akwarius (die Nuwe Era Beweging se toekomstige astrologiese bedeling van harmonie en eenheid op aarde), terwyl die groot profete die leiers of meesters van wysheid van die verskillende wêreldgodsdienste is. Muller is 'n evolusionis wat glo dat die mens op die punt staan om in 'n nuwe spesie te ontwikkel. Met sy sterk geestelike (kosmiese) inslag sal hy die aarde in 'n planeet van God omskep. Hy sê in sy boek, New Genesis:

"Die mens soek nou op 'n wêreldwye skaal deur die vereniging met die goddelike na 'n hoër lewensvorm. Die Hindoes noem die aarde Brahma, of God, omdat hulle geen verskil tussen die aarde en die goddelike sien nie. Hierdie eenvoudige waarheid is stadig besig om by mense pos te vat. As dit ten volle aanvaar is, sal die finale ontplooiing van die groot menslike verhaal plaasvind wanneer ons die kosmiese bedeling betree en word wat ons altyd bedoel was om te wees: die planeet van God."

Volgens Muller se siening is die Hindoes korrek as hulle die aarde God noem. Hierdie aanname is die basis waarop die radikale omgewingsbewegings berus. Ekologiese bewuswording is die groot dryfkrag agter die nuwe onderwysbenadering. Dit blyk nie net uit dr. Muller se standpunte nie, maar ook uit dokumente van America 2000 en ander nuwe wêreldorde georiënteerde onderwysmodelle.

Die ekologiese beweging vandag is nie 'n wetenskaplike benadering tot die beheer van die aarde se hulpbronne nie, maar 'n strewe na geestelike eenwording met die natuur – 'n verenigde wêreldstelsel waarin die individu ondergeskik aan die geheel is. Dr. Muller sê:

"Om die regte menseverhoudings te kan skep, is dit nodig dat ons aan die kinders vertel wat hulle verhouding met die lug, die sterre, die son, die ewigheid, tyd, die menslike familie, die planeet en al hulle broers en susters moet wees. Dit sal 'n revolusie in die onderwys noodsaak, wat vroeër of later móét gebeur… Universele onderwys moet inderdaad die materiële, wetenskaplike en intellektuele sfere transendeer om by die morele en geestelike aspekte daarvan uit te kom. Eendag sal ons planeet 'n geestelike demokrasie wees. Ja, ons moet by ons Hindoe-broeders aansluit en ons planeet Brahma noem – die planeet van God."

Dit is duidelik dat die basis vir universele onderwyshervorming holisties is. Alle lewensvorme op die planeet is onderling verbonde, en nie een is bo die ander verhewe nie. Hierdie siening spruit uit die evolusieteorie. Dit is nie sekulêre humanisme wat hier ter sprake is nie, maar kosmiese humanisme – die geloof dat alle vorms van lewe na hoër vlakke van bewussyn evolueer.

In sy boek brei Muller verder uit op die oorkoepelende rol van die VN as moederorganisasie waar alle politieke en godsdienstige ideologieë in die wêreld saamvloei: "Jaar ná jaar brei regerings deur hulle persepsie van die totale werklikheid die spektrum van die VN se werksaamhede verder uit. Dit is een van die mees verbasende gebeurtenisse in die ganse geskiedenis van die aarde. Op twee maniere word daar deur 'n internasionaliseringsbeweging van die verlede afskeid geneem: Eerstens word die prestasies van die wetenskap en tegnologie in 'n breër geestelike dimensie geïntegreer, en tweedens kom godsdienstige motivering nie meer van die verskillende kulture en nasies af waar dit ontstaan het nie, maar van 'n sentrale punt van die samevloeiing van alle menslike probleme, drome, aspirasies en pogings... Hoe bly sou die Gautama Boeddha, Jesus en Mohammed nie gewees het as hulle die VN kon sien nie! Dit is waarom pous Paulus VI sy besoek aan die VN beskryf het as die einde van 'n reis wat 2000 jaar gelede begin het. Vir die eerste keer is die droom van die Universele (Katolieke) Kerk vervul: die pous kon 'n vergadering van alle nasies op aarde toespreek. Hy het 'n gevoelvolle oproep tot samewerking onder die nasies gedoen. Toe pous Johannes Paulus II onder groot toejuiging die VN besoek het, was hy só aangedaan dat hy trane in sy oë gehad het. Ná sy besoek het hy verskeie kere na die VN gebou teruggekyk en gesê: 'God seën die Verenigde Nasies!... God seën die Verenigde Nasies!’”

Die volgende is die belangrikste aannames en ideologiese uitgangspunte van die VN se Universele Onderwysprojek (Global Education Project):

1.     'n Belangrike paradigmaverskuiwing (ideologiese heroriëntering) vind plaas terwyl nasies besig is om in 'n internasionale gemeenskap op te gaan.

2.     Die strategieë en oplossings van die verlede is in die meeste gevalle uitgedien en dus nie toepaslik om die makro-probleme van die huidige en toekomstige wêreld op te los nie.

3.     In die verlede is die verantwoordelikheid vir die handhawing van vrede en die bewaring van die omgewing hoofsaaklik op die skouers van regerings geplaas. Die tyd het gekom dat elke individu sy/haar verantwoordelikheid sal moet nakom om vrede te skep en 'n leefbare omgewing op aarde te help verseker.

4.     Die grootste onontginde bron op die planeet is die potensiaal van die menslike gees om vrede te skep en in harmonie met sy omgewing te leef. Kinders sal veral geleer moet word hoe om hulle sluimerende geesteskrag vir die realisering van hierdie doelstelling te gebruik.

5.     Die huidige geslag volwassenes sal die kinders moet leer hoe om die insigte, kennis en vermoëns te verkry om hulle eie toekoms te skep; 'n toekoms wat op samewerking, interafhanklikheid en ekologiese sensitiwiteit gebaseer is.

6.     Implisiet in die opvoedingsproses is dat die verlangde ingesteldheid by die kinders net deur 'n gesindheid van onselfsugtigheid, meegevoel en liefde na vore gebring en gekoester kan word.

7.     Om dit te kan verwesenlik verg 'n nuwe begrip vir die rol van onderwys in 'n gemeenskap. 'n Nuwe opvoedkundige missie moet geformuleer en nuwe metodologiese benaderings gevolg word om aan leerlinge die insig, kennis en vermoëns te gee om hulle eie toekoms te skep.

Dit is baie duidelik dat die ware doel van die onderwyshervorming waarmee dr. Muller en sy geesegenote besig is, niks met onderwys in die akademiese sin te doen het nie, maar met waardesonderwys in die filosofiese, esoteriese en religieuse sin. Die konsepte wat deur hom gebruik word, is uit die geskrifte van Alice A. Bailey geneem. In die Voorwoord van die Robert Muller School World Core Curriculum word gesê:

"The underlying philosophy upon which The Robert Muller School is based will be found in the teachings set forth in the books of Alice A. Bailey by the Tibetan teacher Djwhal Khul and the teachings of  M. Morya as given in the Angi Yoga Series books."

Alice Bailey was 'n dissipel van Helena P. Blavatsky, die stigter van die Teosofiese Vereniging, waaruit die Nuwe Era Beweging gegroei het. Alice was 'n spiritistiese kanaliseerder vir 'n opgevare meester van wysheid met die naam van Djwhal Khul, wat ook as Die Tibetaan bekend staan. Sy het dus, uit ‘n Christelike oogpunt beskou, van ‘n okkultiese openbaringsbron gebruik gemaak. Dit is die werking van die gees van Antichris, wat in opposisie teen die Gees van die waarheid is (1 Joh. 4:6). Daar word dus duidelik ‘n antichristelike grondslag vir die onderwys van die nuwe wêreldorde geskep, sodat die wêreld uiteindelik onder een, antichristelike leier verenig kan word.

Onderwyshervormings in SA

Die beginsels van dr. Muller se kernleerplan vir die wêreld is ook besig om sy stempel op die huidige onderwyshervormings in Suid-Afrika af te druk. Universiteite en onderwyskolleges beywer hulle reeds vir die opleiding van onderwysers in multireligie. Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se Departement Godsdienswetenskap speel ‘n leidende rol hierin en het reeds handboeke opgestel om multireligie deur die opleiding van onderwysers te bevorder. Volgens dr. Chrissie Steyn van Unisa moet leerders so vroeg as moontlik aan intergeloofsdenke blootgestel word, anders is daar soveel dinge wat hulle sal moet aflê of verwerp (“unlearn”) as hulle later eers aan die ander godsdienste blootgestel word. Leerders moet ook van nuwe godsdienste soos die Nuwe Era Beweging met sy panteïsme en mistisisme leer. Hierdie departement is vir sy sterk standpunte in dié verband bekend. ‘n Handboek wat die intergeloofstandpunt propageer, is reeds vir onderwysersopleiding geskryf, nl. “The Human Search for Meaning. A Multireligious Introduction to the Religions of Mankind”, deur J.S. Krüger, G.J.A. Lubbe en HC Steyn. Hierdie Unisa handboek het in 1996 verskyn, en die tweede uitgawe in 2002.

In dié boek word ‘n positivistiese bespreking van ‘n groot aantal wêreldgodsdienste gedoen, insluitende die Afrika-gelowe, maar verskeie aspekte van die Christendom word krities bekyk en onder ‘n wolk van verdenking geplaas – veral beskouings oor die foutloosheid en goddelike inspirasie van die Bybel, asook oor die maagdelike geboorte en Godheid van Jesus. Aan die einde van die boek word die mistiese en universele aard van die Nuwe Era Beweging se ontluikende wêreldgodsdiens sterk aanbeveel. Daar word onder meer gesê: “Dit is belangrik om te besef dat die Nuwe Era Beweging nie slegs ‘n godsdienstige beweging is nie. Elke aspek van die moderne lewe word deur hulle filosofie geraak. Die wydverspreide belangstelling in ekologiese bewaring in die moderne samelewing word deur dié beweging gedeel. As gevolg van hulle beskouing dat God en sy skepping een is, verkry die natuur ‘n hoër status. Wanneer die natuur deur besoedeling en vernietiging bedreig word, word God bedreig. Natuurbewaring is dus nie net ‘n pragmatiese plig nie, maar ook ‘n verantwoordelikheid teenoor God wat alles en in almal is… Ter afsluiting behoort dit aangetoon te word dat die [Nuwe Era] groepe ‘n tuiste aan baie mense bied wat met die tradisionele godsdienste in die samelewing ontnugter is.”

Nog ‘n opspraakwekkende multigodsdienstige handboek wat Unisa se prof. J.S. (Kobus) Krüger geskryf het, is: “Along edges. Religion in South Africa: Bushman, Christian, Buddhist.” Dit gaan in hierdie boek nie slegs om ‘n fenomenologiese bespreking van drie verskillende godsdienste nie, maar om hulle holistiese assosiasie in ‘n groter verband van universele godsdienstige denke. Dit word ‘n religieuse ontmoetingspunt tussen drie wêrelde: die Weste (Christendom), die Ooste (Boeddhisme) en Afrika (die Boesman-geloof). Die slotsom van die skrywer is dat die gesekulariseerde en oppervlakkige Christelike geloof homself aansienlik kan verryk deur bv. die Boeddhiste se mistiese tegnieke te beoefen – veral transendentale meditasie as ‘n vorm van selfinkering en innerlike verligting. Van die Boesmans kan ‘n kollektiewe ingesteldheid, asook hulle sterk ekologiese verbintenis met die natuur, met groot vrug oorgeneem word. Sommige elemente van ‘n oergodsdiens het lankal reeds in die Weste verlore geraak, maar funksioneer nog sterk by die Boesmans. Deur religieuse tradisies uit drie ‘wêrelde’ te laat saamvloei, kan die moderne mens se vervalle godsdienssin ‘n sterk hupstoot vorentoe kry (of is dit dalk ondertoe, na ‘n situasie van geestelike verduistering soos in 2 Korinthiërs 4:4 beskryf? – red.)

Alle godsdienste lewer volgens prof Krüger bewyse van ‘n generiese, pan-humanistiese oorsprong.  Dit verklaar waarom daar so baie ooreenkomste tusen hulle is, en hierby voeg hy: “Dit is waarom Hindoes en Afrika tradisionaliste, Jode en Taoïste, Boeddhiste en Christene mekaar so besonder goed kan verstaan wanneer hulle die geleentheid daartoe gebied word. Dit is ook waarom die bestudering van an­der gelowe so ‘n verrykende ondervinding in ‘n mens se eie godsdienstige wêreld is.”

Manilla Soni Amin van die Universiteit van Kaapstad is ook ‘n groot voorstander van intergeloofsonderrig in skole, en lei onderwysers daarin op. Sy het dié standpunte van haar al menige kere op openbare vergaderings en op TV gepropageer en ook ‘n boek, Rainbow Religions, geskryf. Verskeie kinder- en opvoedkundige programme oor die nasionale televisienetwerk word ook gebruik om die boodskap van ‘n multireligieuse en intergeloofsoriëntasie oor te dra.

Deur hierdie benadering word gewone landsburgers se reg tot die beoefening van hulle eie godsdiens juis aangetas deurdat kinders ook aan die sienings en praktyke van ander gelowe blootgestel word. Die groot probleem met ‘n benadering van hierdie aard is die sinkretistiese beïnvloeding van een godsdiens deur ‘n ander. In multigodsdienstige onderrig verloor ‘n bepaalde godsdiens sy unieke karakter en duidelike dogmatiese begronding, omdat raakpunte met ander gelowe gesoek word. Die positivistiese manier waarop die nie-Christelike gelowe in handboeke beskryf word (alles word in goedertrou aanvaar en daar word geen kritiek oor teenstrydighede, vaaghede of twyfelagtige sake uitgespreek nie), is daarop gemik dat die kind moet ontdek dat daar iets goeds in alle godsdienste is. Dit is ‘n baie swak opvoedkundige metode omdat dit ideologies eensydig, subjektief en propagandisties van aard is, en nie die vermoë tot kritiese en analitiese denke by leerders inskerp nie.

Die noodwendige gevolg van intergeloofsonderrig is dat die grense tussen die wêreldgodsdienste begin vervaag, en dat die een godsdiens homself deur die kennis wat hy van ‘n ander een opdoen, verryk. Sodoende word brûe tussen hulle gebou. Indien intergeloofshandboeke gebruik word om onderwysers op te lei, kan daar Ikabod oor Christelike onderwys geskryf word. In die plek daarvan sal multigodsdienstige wêreldburgers vir die nuwe wêreldorde opgelei word. Hulle sal die “een God van alle gelowe” aanbid, ‘n panteïstiese verering vir die natuur hê en alle eng, fundamentalistiese sienings oor die waarheid verwerp. Dit is klaarblyklik ook die doel met Suid-Afrika se nuwe leerplan.

Op 31 Mei 2002 is die nasionale kurrikulum deur die regering aanvaar en op 26 September 2002 is minister Asmal deur die Parlement in Kaapstad bekragtig om sy nuwe leerplan landswyd toe te pas en af te dwing. Hierdie beleidstuk sal kinders verplig om op verskillende maniere aan multigodsdienstige dade van toewyding deel te neem. Dit sal in ooreenstemming met die doelstellings van die VN se Kernleerplan vir die Wêreld wees, daarom besef ‘n mens dat daar ‘n sterk internasionale stempel op ons land se onderwysbeleid afgedruk is.

Mense wat gedink het dat die nuwe wêreldorde nog ver in die toekoms lê en nie vir hulle of hul kinders ‘n onmiddellike en wesenlike bedreiging inhou nie, sal dringend van hierdie nuutse verwikkelings kennis moet neem. Gepaste stappe sal geneem moet word om ons kinders teen geestelike misleiding en globalistiese denke te beskerm.