Print

SA Onderwys en die Nuwe Wêreldorde

Written by Prof Johan Malan.

Dit is nodig om ook na onderwyshervormings in Suid-Afrika te kyk, ten einde vas te stel hoedanig dit ‘n wegbereider vir die Antichris se multigodsdienstige nuwe wêreldorde is. Linda Malan van die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys het goedgunstiglik baie van die navorsing vir hierdie artikel gedoen.

Die Departement van Onderwys in Suid-Afrika is tans nog besig om sy beleid oor godsdiensonderrig in die staatskole te finaliseer. Duidelike uitsprake is egter reeds oor die gelykwaardigheid van alle gelowe gemaak. In hierdie artikel word die aard en rol van godsdiens in die onderwys aangespreek. Dit kan nie gedoen word sonder om na Kurrikulum 2005 te kyk en van die onderbou daarvan kennis te neem nie.

Die volgende aspekte is vir die doel van hierdie bespreking belangrik:

Uitkomsgebaseerde Onderwys

Kurrikulum 2005 is op die beginsels van Uitkomsgebaseerde Onderwys (UGO) geskoei. Twee modelle hiervan bestaan wêreldwyd. Die eerste model is vakgerig en dus op die kennis en feite van die onderskeie vakinhoude ingestel. Wanneer daar in die algemeen van Uitkomsgebaseerde Onderwys gepraat word, word daar gewoonlik nie na hierdie model verwys nie. Die rede waarom dit hier genoem word, is omdat daar wél Christen privaatskole in die RSA is wat hierdie model gebruik. Dit kan min of meer met die model vergelyk word wat in Nederland gebruik word.

Die tweede model het ander motiewe. Die hoofmotief is op die behaviorisme geskoei, wat gedragsomvorming ten doel het. Daar word van die standpunt uitgegaan dat die samelewing bepaalde probleme het, bv. geweld, dwelms, verdeeldheid, ens. Die onderwys word dan vir die regstelling van hierdie probleme aangewend. Politieke oogmerke kan ook deur die onderwys bevorder word om die sosiale bestel in die land te verander en daardeur ‘n groter mate van nasionale eenheid te skep.

Die belangrikste eienskap van hierdie model is dat goeie en doeltreffende onderwys nie die hoofdoelwit is nie. Die onderwys word eerder as ‘n middel tot ‘n doel gesien en sodoende vir ‘n ander doel as dié van die oordra van kennis en feite misbruik. Kennis en feite is sekondêr tot dit wat eintlik deur die onderwys bereik moet word. Daar is sekerlik in enige onderwysmodel die gevaar dat die onderwys misbruik kan word, maar met hierdie model is die misbruik van die onderwys die uiteindelike doel. ‘n Persoon wat ‘n groot rol gespeel het om hierdie model te ontwikkel, is Benjamin S. Bloom, ‘n gedragswetenskaplike aan die Universiteit van Chicago.

Kurrikulum 2005 is op die tweede model van Uitkomsgebaseerde Onderwys geskoei. Waar hierdie soort Uitkomsgebaseerde Onderwys gebruik word, sal dit natuurlik ook afhang van wat met die onderwys beoog word. Die metodes en onderliggende filosofieë sal dus van een land na ‘n ander waar hierdie onderwysmodel toegepas word, verskil. Dit is ook belangrik om te noem dat sommige state in Amerika reeds van Uitkomsgebaseerde Onderwys weggebreek het omdat dit duidelik geword het dat leerlinge etlike jare op skool kan wees en nog nie eers oor basiese lees- en ander lewensvaardighede beskik nie.

Kommentaar wat die SA Stigting vir Onderwys en Opleiding op die gespreksdokumente gelewer het wat die uiteindelike kurrikulum voorafgegaan het, is dat dit elemente van People’s Education bevat. Die SA Stigting vir Onderwys en Opleiding is die organisasie wat in daardie stadium onder andere die Transvaalse Onderwysersvereniging en die SA Onderwysersunie verteenwoordig het.

Faktore wat ‘n rol speel om die filosofiese onderbou  van die kurrikulum te bepaal, is onder andere die grondwet, die Handves van Menseregte en wetgewing wat die nasionale raamwerk van die onderwys bepaal.

Die volgende is van die filosofiese grondmotiewe wat in Kurrikulum 2005 ingebou is: Postmodernisme, multikulturalisme, multigodsdienstigheid, intergeloofsdenke, sosiale omvorming, evolusionisme, humanisme, holisme en globalisme. Hierdie is beslis nie al die filosofiese grondslae van die kurrikulum nie, maar wél ‘n aantal van die belangrikstes. Sommige is duidelik uitgespel en ander is meer subtiel in die verskillende uitkomstes verweef. Die gevolg is dat ons wesenlik met ‘n antichristelike kurrikulum te make het.

‘n Verdere saak wat in ag geneem moet word, is dat daar reeds in Kurrikulum 2005 voorskriftelike onderwysmetodes, soos bv. rollespel, voorkom. Dit is ‘n metode wat in die gedragswetenskappe ontwikkel is. Sommige evaluasiemetodes en riglyne wat ook voorgeskryf word, dwing die onderwyser om sy/haar beoordeling vanuit ‘n bepaalde perspektief, of filosofiese denkrigting, te doen. Die gevaar hier is dat dit nie oor feite gaan nie, maar sekere gesindhede wat bevorder moet word. ‘n Substansiële aantal uitkomste in Kurrikulum 2005 is spesifiek daarop gemik om ‘n multigodsdienstige beeld by die leerders te skep.

Die gevolg van al die genoemde faktore vind noodwendig in die klassituasie neerslag. In elke vak kan ons kinders dan heel “wettig” aan antichristelike tendense en sienings blootgestel en selfs ook beïnvloed word. Daar kan en word van hulle verwag om aktief deel te neem. In die vakke Kuns en Kultuur, asook Menslike en Sosiale Wetenskap, is multikulturele en multireligieuse stellings ingebou. Selfs in ‘n vak soos Natuurwetenskap word hierdie konsepte ingeweef. In die leerarea natuurwetenskappe word die invloed van ander kulture en ander sienswyses oor natuurverskynsels erken en aangemoedig. Die gevolg van hierdie stelling word baie duidelik in die volgende opdrag by die lestema oor die heelal in Graad 7 geïllustreer:

“Horoskope – feit of fiksie? Lees jou eie horoskoop – jy sal maklik een in die koerant of in ‘n tydskrif kry. Maak ‘n aantekening in jou joernaal van dit wat voorspel is. Vergelyk dit later met wat toe regtig in die week met jou gebeur het. Het die horoskoop jou week reg voorspel? Doen dit nog ‘n paar keer en besluit of jy in sterrewiggelary glo.”

Kommentaar: Weens die postmodernistiese inslag van die kurrikulum, mag die onderwyser nie die les vanuit ‘n bepaalde perspektief (bv. Christelik) aanbied nie. Die gevolgtrekking wat die leerlinge maak, mag nie as reg of verkeerd beoordeel word nie. Wat reg is vir jou, is reg; en wat reg is vir my, is ook reg. Daar geld geen vaste waarheid nie. In ‘n tema oor geneeskunde moes leerlinge bv. hoor dat die sangoma (tradisionele geneser) net so wetenskaplik as die westerse geneesheer is.

Die leerarea lewensoriëntering maak by uitstek vir geloofsvermenging voorsiening. Let op die volgende voorbeeld uit ‘n Graad 7 handboek:

“Eenheid 1: Die skoonheid in jou. Uitdaging 1: Vind die kristal van selfkennis. Aktiwiteit 17 (bl. 18): Kom ons maak ‘n mandala.”

Aan die leerlinge word dié veel geborduurde opdrag gegee. Die mandalas word dan in die klaskamer opgeplak, en die aktiwiteit sluit met die volgende woorde af: “Elke keer as jy hartseer voel of aan jouself twyfel, kan jy na jou mandala kyk en jouself aan die skoonheid in jou herinner.” Ter verduideliking van hierdie opdrag moet ons eers kyk na wat ‘n mandala is:

‘n Mandala is ‘n prentjie van die kosmiese kragte in die heelal. Dit bestaan uit simbole soos sirkels, vierkante en driehoeke, wat in ‘n eindelose variasie van kombinasies, groottes en kleure geteken kan word. Die ‘kosmogram’ kan in ‘n komplekse kunswerk ontwikkel. Dit help die persoon wat dit teken om sy aandag op die groter kosmiese werklikheid te vestig. Dit speel ‘n groot rol in Boeddhistiese en Hindoeïstiese meditasie deurdat dit ‘n hulpmiddel is om ‘n persoon van die sigbare wêreld te laat afsluit en sy aandag op kosmiese [okkultiese] energievlakke te vestig.

In Jungiaanse sielkunde word pasiënte ook gevra om mandala’s te teken, omdat elke persoon as ‘n mikrokosmos daardeur sy eie persepsie van die geheelbeeld gee. Deur stip hierna te kyk en op die simbole te fokus, kan kosmiese energie vrygestel word wat na bewering ‘n hoë terapeutiese waarde het. Die persoon word deel van ‘n groot kosmiese geheel waarin grense vervaag en konflikte verdwyn.

Alternatiewe bewussynstoestande is die gevolg van meditatiewe visualisasie met behulp van ‘n mandala. Die “Een” in die kosmos manifesteer vir sommige as ‘n bewussyn van die Boeddha binne-in jou, terwyl dit vir die Hindoes met ‘n bewussyn van Brahman of Nirvana gepaard gaan. Hierdeur word die mens van sy inherente goddelike natuur bewus en raak innerlik “verlig”.

Die mandala kan ook verskillende kosmiese sfere voorstel waaroor (vir die Hindoes) bepaalde gode beheer het. Hulle teenwoordigheid en beskerming word deur mantras verkry. Negatiewe kosmiese kragte word binne die magiese sirkel in die mandala beperk.

Kommentaar: In hierdie opdrag word van die Christen-kind verwag om ‘n Boeddhistiese of Hindoeïstiese aksie uit te voer. Die onderwys mag nie vanuit ‘n vaste lewensbeskouing, soos bv. die Christelike, geskied nie. Die een godsdiens kry sogenaamd nie voorkeur bo die ander nie. Die godsdiensperspektief wat dus hier geld, is die multireligieuse beginsel. Mag ons ons kinders só aan Baäl offer?

Verder in die betrokke handboek word puberteit en seksualiteit uiters eksplisiet behandel. Van kuisheid, onthouding en die huwelik word egter geen melding gemaak nie. As die Christelike godsdiens nog geïmpliseer word, gebeur dit slegs in ‘n negatiewe sin.

Voorbeelde van lesse wat onderwysers self uitgewerk het, bevat ook elemente van ander godsdienste. Ná ‘n les oor die reënkoningin, Modjadji, waarin kinders die reëndans geleer het, was ‘n kind met ‘n Christelike siening daarvan oortuig dat dit nie die Here is wat laat reën nie, maar die reënkoningin. Ander lesse by dié skool het oor die San Boesmans en ‘n sangoma gehandel. In al hierdie lesse is van rollespel gebruik gemaak, en is die Christen-kind gedwing om ook aan die heidense rituele deel te neem. Die ironie is dat dié skool se bestuursraad self ‘n Christelike etos vir die skool gekies het!

Hierdie benadering gaan eerder die reël as die uitsondering word wanneer die nasionale onderwysbeleid in al sy konsekwensies deurgevoer word. Dit wat reeds in Kurrikulum 2005 voorgeskryf is, sal bloot deur die onderwysowerhede afgedwing word.

Nasionale beleid oor godsdiensonderrig

Die groot vraag is: Wat sal die nasionale beleid oor godsdiensonderrig wees? Die Minister van Onderwys, Kader Asmal, het onlangs in die teenwoordigheid van internasionale opvoedkundiges gesê:

“Regrettably there are fundamentalists – mostly Christian fundamentalists – who object to tolerance and respect for others, in the belief that they alone are custodians of the truth. In this day and age such a view of the world is an historical anachronism, and a teacher does a child no favours by pretending that this is the case. I intend to resists these… tendencies, and I will use the constitution as the sole basis of my approach.”

Die minister begaan egter ‘n groot oordeelsfout in sy voorneme om die grondwet te gebruik om ‘n multigodsdienstige ingesteldheid af te dwing. In sy Handves van Menseregte (Hoofstuk 2) erken die grondwet ‘n pluraliteit van kulture en godsdienste, maar impliseer nêrens dat hulle saamgegooi en vermeng moet word ten einde by elke indivividu ‘n multigodsdienstige oriëntasie te skep nie. Die grondwet sê: “Everyone has the right to freedom of conscience, religion, thought, belief and opinion” (Hfst. 2, Art. 15); en: “Persons belonging to a cultural, religious or linguistic community may not be denied the right, with other members of that community, (a) to enjoy their culture, practise their religion and use their language; and (b) to form, join and maintain cultural, religious and linguistic associations and other organs of civil society…” (Hfst. 2, Art. 31). Elke landsburger het dus die grondwetlike reg om, wat homself en sy gesin betref, sy eie geloof as die grondslag van waarheid te aanvaar, kerke wat dit verkondig, by te woon, en ook sy kinders binne die raamwerk van enkelgeloofsonderrig te laat oplei.

As raadgewers oor godsdiensonderrig gebruik die minister egter multigodsdienstig-georiënteeerde persone soos prof. Kobus Krüger en Prof. Gerrie Lubbe van Unisa se Dept. Godsdienswetenskap. Prof. Krüger het homself in ‘n referaat “Waarom Multigodsdienstige Onderwys?” soos volg uitgedruk: “Multigodsdienstige onderwys gee toegang tot meer as een godsdiens deur onderrig daaroor aan te bied. Dit geskied binne een raamwerk van verstaan, in een sillabus, een handboek, een klaskamer en deur een onderwyser. Dit is ‘n alternatief vir die eksklusief-fundamentalistiese standpunt waardeur ander godsdienste uit die onderwysterrein verban is uit vrees vir kontaminasie…”

Die regering val duidelik by hierdie advies in. Met die implementering van grade 4 en 8 van Kurrikulum 2005 het die Gautengse Onderwysdepartement in 2001 gesê dat godsdiensonderrig ingevolge staatsbeleid multigodsdienstig moet wees. Dit sal vir almal verpligtend wees. In hulle omsendbrief sê hulle uitdruklik: “Religious content cannot be offered from one single faith perspective… Learners must be part of the religious programme at schools and will not be excused from class.”

Kurrikulum 2005 het ook verskeie ander duidelik uitgespelde uitkomste wat ‘n intergeloofsoriëntasie in die klaskamer afdwing. Die regering beskou lewensoriëntering as die leerarea waar godsdiens ter sprake is. As slegs opgeleide onderwysers godsdiens in skole kan aanbied, en as die evaluasie daarvan deur die regering gemonitor kan word, is dit ‘n uitgemaakte saak dat intergeloofsdenke in ons kinders se kele afgedwing sal word.

Christenouers moet verantwoordelikheid vir hulle kinders neem. Ouers moet kennis neem van die inhoud van die leerstof wat vir hulle kinders aangebied word. Daar moet opgetree word wanneer die kinders gedwing word om aan praktyke deel te neem waarin daar van hulle verwag word om die knie voor Baäl te buig. Vir die leuen dat daar soveel ooreenstemming in die waardes van die verskillende godsdienste is, mag ons nie val nie. Dit is bloot nie waar nie. Die onderwys in die land is nie besig om antichristelik te raak nie – dit ís reeds antichristelik. Ons kinders word deur middel van Kurrikulum 2005 in staatskole gereed gemaak om die nuwe wêreldorde en die Antichris met ope arms te aanvaar.

AW Tozer 22