Print

Internasionale Intervensie in Libië en die NWO

Written by Prof Johan Malan.

Die VN-gesteunde militêre aksie teen Libië is tipies van die opkomende Nuwe Wêreldorde (NWO). Wat baie opvallend is van die huidige situasie, is dat die verenigde optrede teen Libië deur ‘n kombinasie van Westerse en Arabiese lande aangevra is – ‘n eerste van sy soort. ‘n Nuusleser van die Aljazeera TV-stasie in Katar het selfs een van hulle verslaggewers op ‘n kru manier gekorrigeer toe sy na die militêre aksie verwys het as ‘n Westerse reaksie teen Gaddafi se geweld teen sy eie mense. Hy het haar daaraan herinner dat die Arabiese lande soos deur die Arabiese Bond verteenwoordig, die VN resolusie teen Gaddafi ten volle ondersteun, ongeag van wie die besluit fisies uitvoer.

In die huidige situasie is dit nie Westerse lande wat eensydig ‘n Moslemland inval, soos wat die geval gedurende die multinasionale invalle in Irak en Afghanistan was nie. Wat ons tans sien, is NWO tipe intervensies in die wêreld. Rusland en Sjina ondersteun egter nie die huidige optrede nie. Hulle negatiewe houding is ‘n bewys daarvan dat die VN nie sterk oorhoofse leierskap het nie, en daarom mank gaan aan té veel interne verdeeldheid oor die metodes wat hulle behoort te volg. Hierdie wêreldliggaam is nietemin ‘n opkomende mag om mee rekening te hou, en een wat beslis in die toekoms ‘n groter rol gaan speel.

Dit is duidelik dat die Arabies-gesteunde aksie in Libië slegs ‘n oefenlopie vir toekomstige invalle deur NWO magte in ander lande is. Een só ‘n land wat volgens die Bybel deur ‘n geweldige oormag ingeval sal word, is Israel. Hierdie land word tans op diplomatieke gebied totaal geïsoleer weens beweerde diskriminasie teen nie-Jode, die gebruik van oormatige geweld om binnelandse opstande te onderdruk, die onregmatige besetting van Palestynse grondgebiede, asook onwilligheid om hulle hoofstad, Jerusalem, te verdeel en die helfte daarvan aan die Palestyne af te staan.

Dit kan verwag word dat, indien ‘n internasionaalondersteunde plan vir die eensydige onafhanklikheidsverklaring van ‘n Palestynse staat later vanjaar geïmplementeer word, Israel ‘n oorlog van oorlewing teen sy vyande in die Midde-Ooste sal voer. As gevolg hiervan sal verenigde NWO aanvalle van alle kante af teen hulle geloods word. Rusland en Sjina sal ook betrokke raak, en dit mag net wees dat die Arabiese lande vir hierdie inval eerder Rusland se leierskapsrol as dié van Westerse lande sal verkies, omdat die Weste in die verlede sterk ondersteuning aan Israel gebied het. Esegiël 38 en 39 bevestig só ‘n scenario, en daar is verskeie aanduidings dat die komende Russies/Arabiese inval in Israel (moontlik Islamitiesgemotiveerd) op hande is. Die profeet sê dat verskeie ander lande by Rusland en sy Arabiese bondgenote sal aansluit (Eseg. 38:2-6).

Die invloed van die opkomende NWO kan duidelik in die huidige ingryping in die sake van polities onstabiele lande gesien word. Die opstande in ander Arabiese lande beklemtoon ook die noodsaaklikheid vir NWO intervensie wat sterk, beslissend en van ‘n internasionale aard is – en dit moet nie deur enige spesifieke supermoondheid soos die VSA geïnisieer word nie. Daar moet aan die teikenlande geen ander keuse gelaat word as om hulleself aan die beleidsrigtings en eise van die NWO te onderwerp en ten volle daaraan te voldoen nie.

Ons is op die drumpel van ‘n politieke en militêre superstruktuur van die NWO, wat die vorm kan aanneem van ‘n VN-gebaseerde wêreldregering met uitvoerende magte. Die lang en omslagtige weg waardeur nasies eers met mekaar moet beraadslaag om ondersteuning vir ‘n bepaalde saak te verkry, gevolg deur ‘n noodvergadering van die VN se Veiligheidsraad, is bloot nie voldoende om probleme op te los wat wêreldwye implikasies het en van onmiddellike belang vir alle mense is nie.

Behalwe vir die bekamping van politieke onbestendigheid, oorloë en die blokkering van belangrike uitvoerhawens deur vyandige buurstate of weens burgeroorloë, is daar ook groot natuurrampe en die ernstige besoedeling of oorbenutting van natuurlike hulpbronne wat gekoördineerde en doeltreffende internasionale intervensie noodsaak. Rampe soos die onlangse een in Japan beklemtoon die behoefte aan wêreldwye reddingsoperasies wat vinnig ingestel en sentraal beheer moet word.

Net so nodig en voordelig as wat ‘n wêreldregering ook al mag blyk te wees, net so gevaarlik kan dit ook wees indien dit in die verkeerde hande sou beland. Soos wat die geval was met alle wêreldryke in historiese tye, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat ‘n goddelose diktator beheer daaroor verkry en dan sy mag misbruik om mense van elke vryheid wat hulle gehad het te beroof. Die wêreld stuur ongelukkig weer op so ‘n situasie af.

Uiteindelik sal alle volke hulle soewereiniteit verloor en deur ‘n wêreldregering voorgeskryf word wat om te doen. Dit is nie moeilik om te raai wat hierdie nuwe liggaam se standpunt sal wees teenoor Israel en die Christelike godsdiens met sy aanspraak van uniekheid nie. Die Bybel waarsku ons dat Israel in die eindtyd beleër sal word (vgl. Sag. 12:2-3), en dat ‘n multigodsdienstige vorm van aanbidding wêreldwyd ingestel sal word, wat sal lei na die vergoddeliking en gedwonge aanbidding van die Antichris as die messias van alle nasies (Op. 3:3-4,8,15). Hy sal ook die politieke hoof van ‘n wêreldregering wees (Op. 13:7) en ‘n multinasionale mag mobiliseer om teen die komende ware Christus te veg wat deur God gestuur is as die enigste Verlosser van die wêreld, en wat binnekort weer na die aarde sal terugkeer (Op. 19:19-20; Hand. 4:12).

Die ontplooiing van gebeure in die Midde-Ooste beklemtoon die spoedige beweging na globalisasie op al die belangrike terreine van menslike samelewings – politieke, militêre, ekonomiese en veral ook godsdienstige globalisasie word beplan. Op politieke gebied is daar behoefte aan ‘n superstruktuur om menseregte in die algemeen te bevorder en verpligtend te maak. Gemeenskaplike militêre optrede is nodig om besluite van die wêreldregering af te dwing. Op die ekonomiese terrein is daar ‘n sterk beweging vir die instelling van ‘n enkele geldstelsel, asook internasionale beheer oor lewensbelangrike natuurlike hulpbronne soos die olievelde.

Op die godsdienstige terrein is daar ‘n sterk beweging in die rigting van die gelyke erkenning van al die groot godsdienste, sodat godsdienstig gemotiveerde oorloë voorkom kan word (veral die Islamitiese jihads). Dit sal slegs ‘n tussentydse reëling wees onderweg na die finale doelwit van godsdienseenheid, waarin alle gelowe sal bely dat hulle dieselfde God onder verskillende name aanbid, en ook wag op die koms van dieselfde wêreldmessias wat op godsdienstige titels uit alle gelowe aanspraak sal maak.

Wat nou onafwendbaar skyn te wees – wêreldeenheid vir wêreldvrede – sal spoedig blyk ‘n vasberade poging van die koninkryk van die duisternis te wees om alle volke van hulle gebiedsregte en soewereiniteit te beroof (vgl. Hand. 17:26), asook van hulle regte op ekonomiese vryheid en godsdiensvryheid. Uiteindelik sal hulle slawe wees van ‘n wêreldryk wat erger sal wees as die ryke van die Romeinse keisers, asook dié van die outokratiese konings van die voorafgaande Griekse, Medo-Persiese en Babiloniese Ryke. Satan sal self die komende NWO bemagtig. Johannes sê:

“En die dier wat ek gesien het [die Antichris], was soos ‘n luiperd [die Griekse Ryk], en sy pote soos dié van ‘n beer [die Medo-Persiese Ryk], en sy bek soos die bek van ‘n leeu [die simbool van die Babiloniese Ryk]; en die draak [Satan] het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag” (Op. 13:2; hierdie simboliek word in Daniël 7 verklaar). Satan is ‘n geestelike wêreldleier (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4; Ef. 2:2; 6:12; 1 Joh. 5:19). Hy sal egter in die eindtyd die dryfkrag agter ‘n fisiese koninkryk wees wat net so werklik sal wees as die ander bose wêreldryke in historiese tye. Hy sal sy troon en mag aan die Antichris gee sodat hy dit vir die vestiging van sy wêreldregering kan gebruik.

Al die ergste kenmerke van die vorige wêreldryke sal in die eindtydse ryk van die Antichris herleef. Koning Nebukadnésar van die Babiloniese Ryk het ‘n groot beeld laat maak en alle volke gedwing om voor die beeld neer te val en dit te aanbid. Die Antichris sal ook ‘n wêreldgodsdiens instel wat met die gedwonge aanbidding van ‘n beeld gepaard sal gaan (Op. 13:15). Net soos wat die Persiese koning, Ahasvéros onder die aanstigting van Haman ‘n Joodse volksmoord gelas het, sal die Antichris dit ook doen (Dan. 9:27; Matt. 24:15-21). Alexander die Grote van die Griekse Ryk het al die koninkryke rondom hom oorweldig en op die punt gestaan om sy wêreldryk na die Midde-Ooste te verskuif, toe hy op ‘n jong ouderdom gesterf het aan malaria en komplikasies weens alkoholisme. Die Antichris sal weens sy groot militêre en politieke mag aanbid word (Op. 13:3,7) en sy hoofkwartier in die Midde-Ooste vestig (Dan. 11:44-45). Antiochus Epifanes van die Griekse Ryk het die tempel in Jerusalem ontheilig deur ‘n afgodsbeeld daarin te plaas. Die Antichris sal ook die tempel ontheilig deur homself daarin tot God te verklaar en ‘n beeld van hom daarin te sit (2 Thess. 2:4; Op. 13:15). Soos wat die Romeinse Ryk Jerusalem beleër en verwoes het, sal die Antichris ‘n wêreldmag teen Jerusalem ontplooi om teen die Messias van Israel te veg wanneer Hy kom (Op. 19:19; Sag. 14:12). Dit sal aan die einde van die Antichris se sewe-jaar lange regering wees (Dan. 9:27; Op. 19:11-20).

Die tyd vir die herverskyning van die antieke wêreldryke in die gedaante van die Antichris se eindtydse ryk het aangebreek. Die rasionaal vir die instelling van ‘n wêreldryk mag dalk baie goed en aanvaarbaar klink vir die nasies wat in groot benoudheid verkeer weens hulle probleme en beperkte magte, maar die einde daarvan sal erger wees as die diktatorskappe wat ingestel is deur Julius Caesar, Nero, en ook Stalin en Hitler in moderne tye. Slegs die ware Koning van die heelal, Jesus Christus, sal hierdie bose ryk vernietig en sy Christelike wêreldryk van ware vrede op aarde instel (Op. 11:15; Jes. 2:1-4; Jer. 3:17; Sag. 8:21-22).

Die politieke, ideologiese en godsdienstige transformasie na globalisme wat nou in die wêreld aan die gang is, is die vroeë teken van ‘n onheilspellende nuwe wêreldorde wat spoedig ten volle geopenbaar sal wees.

AW Tozer 22