Print

Antichristelike Hervormings in die Onderwys

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Die humanistiese en multigodsdienstige doel met die Suid-Afrikaanse model van uitkomsgebaseerde onderwys word deur ‘n onderwyskenner verduidelik.

Die Departement van Onderwys is tans nog besig om sy beleid oor godsdiensonderrig in die staatskole te bepaal. Duidelike uitsprake is egter reeds oor die gelykwaardigheid van alle gelowe gemaak. In hierdie artikel word die aard en rol van godsdiens in die onderwys aangespreek. Dit kan nie gedoen word sonder om na Kurrikulum 2005 te kyk en van die onderbou daarvan kennis te neem nie (die amptelike naam hiervan is weer na ‘Kurrikulum 2005’ verander).

Kenmerke van Kurrikulum 2005

Die volgende aspekte is vir die doel van hierdie bespreking belangrik:

Uitkoms Gebaseerde Onderwys

Kurrikulum 2005 is op die beginsels van Uitkoms Gebaseerde Onderwys (UGO) geskoei. Twee modelle hiervan bestaan wêreldwyd.

Die eerste model is vakgerig en is dus op die kennis en feite van die onderskeie vakinhoude ingestel. Wanneer daar in die algemeen van UGO gepraat word, word daar gewoonlik nie na hierdie model verwys nie. Die rede waarom dit hier genoem word, is omdat daar wél Christen privaatskole in die RSA is wat hierdie model gebruik. Dit kan min of meer met die model vergelyk word wat in Nederland gebruik word.

Die tweede model het ander motiewe. Die hoofmotief is op die behaviorisme geskoei, wat gedragsomvorming ten doel het. Daar word van die standpunt uitgegaan dat die samelewing bepaalde probleme het, bv. geweld, dwelms, verdeeldheid, ens. Die onderwys word dan vir die regstelling van hierdie probleme aangewend. Politieke oogmerke kan ook deur die onderwys bevorder word om die sosiale bestel in die land te verander en daardeur ‘n groter mate van nasionale eenheid te skep.

Die belangrikste eienskap van hierdie model is dat goeie en doeltreffende onderwys nie die hoofdoelwit is nie. Die onderwys word eerder as ‘n middel tot ‘n doel gesien en sodoende vir ‘n ander doel as dié van die oordra van kennis en feite misbruik. Kennis en feite is sekondêr tot dit wat eintlik deur die onderwys bereik moet word. Daar is sekerlik in enige onderwysmodel die gevaar dat die onderwys misbruik kan word, maar met hierdie model is die misbruik van die onderwys die uiteindelike doel. ‘n Persoon wat ‘n groot rol gespeel het om hierdie model te ontwikkel, is Benjamin S. Bloom, ‘n gedragswetenskaplike aan die Universiteit van Chicago.

Kurrikulum 2005 is op die tweede model van UGO geskoei. Waar hierdie soort UGO gebruik word, sal dit natuurlik ook afhang van wat met die onderwys beoog word. Die metodes en onderliggende filosofieë sal dus van een land na ‘n ander verskil waar hierdie onderwysmodel toegepas word. Dit is ook belangrik om te noem dat sommige state in Amerika reeds van UG0 weggebreek het omdat dit duidelik geword het dat leerlinge etlike jare op skool kan wees en nog nie eers oor basiese lees- en ander lewensvaardighede beskik nie.

Kommentaar wat die SA Stigting vir Onderwys en Opleiding (SASOO) op die gespreksdokumente gelewer het wat die uiteindelike kurrikulum voorafgegaan het, is dat dit elemente van People’s Education bevat. SASOO is die organisasie wat in daardie stadium onder andere die Transvaalse Onderwysersvereniging (TO) en die SA Onderwysersunie (SAOU) verteenwoordig het.

Faktore wat in Kurrikulum 2005 ‘n rol speel

Faktore wat ‘n rol speel om die filosofiese onderbou  van die kurrikulum te bepaal, is onder andere die Grondwet, die Handves van Menseregte en wetgewing wat die nasionale raamwerk van die onderwys bepaal.

Die volgende is van die filosofiese grondmotiewe wat in Kurrikulum 2005 ingebou is: Postmodernisme, multikulturalisme, multigodsdienstigheid, intergeloofsdenke, sosiale omvorming, evolusionisme, humanisme, holisme en globalisme. Hierdie is beslis nie al die filosofiese grondslae van die kurrikulum nie, maar wél ‘n aantal van die belangrikstes. Sommige is duidelik uitgespel en ander is meer subtiel in die verskillende uitkomstes verweef. Die gevolg is dat ons wesenlik met ‘n antichristelike kurrikulum te make het.

‘n Verdere saak wat in ag geneem moet word, is dat daar reeds in Kurrikulum 2005 voorskriftelike onderwysmetodes, soos bv. rollespel, voorkom. Dit is ‘n metode wat in die gedragswetenskappe ontwikkel is. Sommige evaluasiemetodes en riglyne wat ook voorgeskryf word, dwing die onderwyser om sy/haar beoordeling vanuit ‘n bepaalde perspektief, of filosofiese denkrigting, te doen. Die gevaar hier is dat dit nie oor feite gaan nie, maar bepaalde gesindhede wat bevorder moet word. ‘n Substansiële aantal uitkomste in Kurrikulum 2005 is spesifiek daarop gemik om ‘n multigodsdienstige beeld by die leerders te skep.

Kurrikulum 2005 in die klaskamer

Die gevolg van al die genoemde faktore vind noodwendig in die klassituasie neerslag. In elke vak kan ons kinders dan heel “wettig” aan antichristelike tendense en sienings blootgestel en selfs ook beïnvloed word. Daar kan en word van hulle verwag om aktief deel te neem. In die vakke Kuns en Kultuur, asook Menslike en Sosiale Wetenskap, is multikulturele en multireligieuse stellings ingebou. Selfs in ‘n vak soos Natuurwetenskap word hierdie konsepte ingeweef, soos hieronder aangedui.

Leerarea Natuurwetenskappe

Kurrikulum 2005 (Uitkoms 6): Demonstreer kennis en begrip van die verhouding tussen wetenskap en kultuur (senior fase). By hierdie uitkoms word o.a. die volgende evaluasiekriteria aan die onderwyser voorgeskryf:

•          Die wetenskap erken die invloed wat kulture daarop het.

•          Die wetenskaplike siening is slegs een wyse om na natuurlike verskynsels te kyk.

Die gevolg van hierdie stelling word baie duidelik in die volgende opdrag by die lestema oor die heelal in Graad 7 geïllustreer:

Leerderboek: (Natuurwetenskap vr Graad 7 – uitgegee deur Nasou):

“Horoskope – feit of fiksie? Lees jou eie horoskoop – jy sal maklik een in die koerant of in ‘n tydskrif kry. Maak ‘n aantekening in jou joernaal van dit wat voorspel is. Vergelyk dit later met wat toe regtig in die week met jou gebeur het. Het die horoskoop jou week reg voorspel? Doen dit nog ‘n paar keer en besluit of jy in sterrewiggelary glo.” (Verkort deur LM).

Kommentaar: Weens die postmodernistiese inslag van die kurrikulum, mag die onderwyser nie die les vanuit ‘n bepaalde perspektief (bv. Christelik) aanbied nie. Die gevolgtrekking wat die leerlinge maak, mag nie as reg of verkeerd beoordeel word nie. Wat reg is vir jou, is reg; en wat reg is vir my, is ook reg. Daar geld geen vaste waarheid nie. In ‘n tema oor geneeskunde moes leerlinge hoor dat die sangoma (tradisionele geneser) net so wetenskaplik as die westerse geneesheer is.

Leerarea Lewensoriëntering

Een van die leerareas wat by uitstek vir geloofsvermenging voorsiening maak, is dié van Lewensoriëntering. Let op die volgende voorbeeld uit ‘n Graad 7 handboek (uitgegee deur Nasou):

“Eenheid 1: Die skoonheid in jou. Uitdaging 1: Vind die kristal van selfkennis.” Aktiwiteit 17 (bl. 18): “Kom ons maak ‘n mandala.”

Aan die leerlinge word dié veel geborduurde opdrag gegee. Die mandalas word dan in die klaskamer opgeplak, en die aktiwiteit sluit met die volgende woorde af: “Elke keer as jy hartseer voel of aan jouself twyfel, kan jy na jou mandala kyk en jouself aan die skoonheid in jou herinner.” (Vir meer inligting oor wat ‘n mandala is, lees die beskrywing aan die einde van dié artikel).

Kommentaar: Hier word van die Christen-kind verwag om ‘n Boeddhistiese aksie uit te voer. Die onderwys mag nie vanuit ‘n vaste lewensbeskouing, soos bv. die Christelike, geskied nie. Die een godsdiens kry sogenaamd nie voorkeur bo die ander nie. Die godsdiensperspektief wat dus hier geld, is die multireligieuse beginsel. Mag ons ons kinders só aan Baäl offer?

Verder in die betrokke handboek word puberteit en seksualiteit uiters eksplisiet behandel. Van kuisheid, onthouding en die huwelik word egter geen melding gemaak nie. As die Christelike godsdiens nog geïmpliseer word, gebeur dit slegs in ‘n negatiewe sin.

Voorbeelde van lesse wat onderwysers self uitgewerk het, bevat ook elemente van ander godsdienste. Ná ‘n les oor die reënkoningin, waarin kinders die reëndans geleer het, was ‘n kind met ‘n Christelike siening daarvan oortuig dat dit nie die Here is wat laat reën nie, maar die reënkoningin. Ander lesse by dié skool het oor die San Boesmans en ‘n sangoma gehandel. In al hierdie lesse is van rollespel gebruik gemaak, en is die Christen-kind gedwing om ook aan die heidense rituele deel te neem. Die ironie is dat dié skool se bestuursraad self ‘n Christelike etos vir die skool gekies het!

Hierdie benadering gaan eerder die reël as die uitsondering word wanneer die nasionale onderwysbeleid in al sy konsekwensies deurgevoer word. Dit wat reeds in Kurrikulum 2005 voorgeskryf is, sal bloot deur die onderwysowerhede afgedwing word.

Nasionale beleid oor godsdiensonderrig

Die verskillende modelle vir godsdiensonderrig wat deur die voormalige Minister vir Onderwys, prof. Bengu, voorgestel is, is deur die huidige minister, prof. Kader Asmal, van die tafel afgevee. Baie Christene, insluitende kerkleiers, was destyds opgewonde oor die voorgestelde modelle. Alhoewel daar ‘n demokratiese keuse oor modelle betrokke was, was dit hoogstens ‘n Christelike sousie wat gegooi kon word oor leerareas wat reeds multigodsdienstig geklee was, soos hierbo geïllustreer.

Die nuwe minister het sy eie komitee aangestel om hom oor godsdiensonderrig te adviseer. Daar is geen deursigtigheid ten opsigte van die proses nie, en niemand weet eers wie die persone is wat op hierdie komitee dien nie. Geen beleid is ook nog oor die saak gevorm nie. Dit is egter tóg duidelik dat Christene meer as genoeg rede het om bekommerd hieroor te wees.

Tydens ‘n vergadering wat op 2 Sept. 2000 by die Universiteit van Pretoria deur die Dept. Bybelkunde, die Teologiese Fakulteit en die NG Kerk se Jeugkommissie gehou is, het mnr. E. Williams, die Direkteur-generaal van Onderwys, sewe beginsels genoem wat deur die minister se raadgewers in ag geneem word om beleid oor godsdiensonderrig te bepaal. Hulle onderskei duidelik tussen “Religious Education” (Godsdiensonderrig) en “Religion Education” (Onderrig oor Godsdienste). Die keuse wat hulle maak, is “Onderrig oor Godsdienste”. Die sewe beleidsbeginsels is:

·       Policy for the role of religion in public schools in South Africa must flow directly from core constitutional values of citizenship, human rights, equality, freedom from discrimination, and freedom of conscience, religion, thought, belief and opinion.

·       The public school has an educational responsibility for teaching and learning about religion(s) in ways that are different than the religious education, religious instruction, or religious nurture provided by the home, family and religious community.

·       Religion education is an academic programme, with clear educational aims and objectives, for teaching and learning about religion, religions and religious diversity in South Africa and the world.

·       Learning about religion, religions and diversity serves important educational outcomes identified in Curriculum 2005.

·       Teaching about religion, religions and religious diversity needs to be facilitated by trained professional educators.

·       Programmes in Religion Education must be developed with the necessary coherence and flexibility, depth and scope, and support by appropriate teaching materials and assessment criteria.

·       Religion Education can contribute to creating an integrated school community that affirms unity in diversity.

Tydens die kongres van die Parlement vir Wêreldgodsdienste op 1-8 Desember 1999 in Kaapstad, is die uitdrukking unity in diversity gereeld tydens die verskillende sprekers se referate gehoor. Dit is bepaald die terminologie van die intergeloofsbeweging.

Kurrikulum 2005 het soveel duidelik uitgespelde uitkomste wat ‘n intergeloofsoriëntasie in die klaskamer afdwing. Die regering beskou lewensoriëntering as die leerarea waar godsdiens ter sprake is. As slegs opgeleide onderwysers godsdiens in skole sal kan aanbied, en as evaluasie daarvan deur die regering gemonitor kan word, is dit ‘n uitgemaakte saak dat die intergeloofsdenke in ons kinders se kele afgedwing gaan word.

Die antwoorde wat mnr. Williams op die vrae van besorgde Christene gegee het, is uiters onrusbarend. Hy het selfs gesê dat as die huidige skolewet wat aan bestuursrade (wat hoofsaaklik uit ouers bestaan) beheer oor die etos van skole gee, in stryd met die konsep van eenheid in verskeidenheid kom, die skolewet herskryf sal moet word. Christene wat gedink het dat hulle hulself op regte in die grondwet, of op gewetensklousules, kan beroep, sal agterkom dat die beginsel van demokrasie klaarblyklik nie vir Christene geld nie.

Volgens mnr. Williams speel drie dokumente ‘n bepalende rol in die beleid oor godsdiensonderrig. Dit is: 1. Values Education, 2. Moral regeneration summit, en 3. Religion in Education policy. Laasgenoemde is nog nie gepubliseer nie.

Die Values in Education dokument bevat waardes wat met Christelike of morele waardes nie veel te doen het nie. Die doel met hierdie waardes is om samelewingsprobleme soos geweld en misdaad deur middel van onderwys op te los. Die waardes wat in die dokument geïdentifiseer word, is equity, tolerance, multilingualism, openness, accountability en honour. Equity gaan om die ekonomiese regstelling van ongelykhede uit die verlede. Tolerance moet, volgens mnr. Williams, ook beteken dat nie net die persoon se godsdiens verdra moet word nie, maar ook moet daar waardering vir die god in hom getoon word.

So kan elkeen van hierdie waardes deurgetrek word na politieke doelstellings om die gedagte van die reënboognasie te bevorder, landsburgers te kweek wat die regering pas en sodoende beter in die nuwe wêreldorde sal inpas. Die leuen wat so hamer op die waardes wat dieselfde in alle godsdienste is, is die weg om die wêreld vir ‘n intieme alliansie van wêreldgodsdienste voor te berei, en uiteindelik vir ‘n enkele wêreldgodsdiens. As die verskillende godsdienste mekaar eers op die punt van gemeenskaplike waardes gevind het en begin saamwerk, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat hulle assosiasie een stap verder gevoer sal word.

Na die Moral Regeneration Summit wat in Pretoria plaasgevind het, is geen afgevaardigdes van Christusgesentreerde kerke uitgenooi nie. Die persoon [met ‘n biskop-titel!] wat daar ‘n gebed gedoen het, het gebid vir die “Great Spirit” wat ‘n vader, ‘n moeder, of “some goggo out there” mag wees!

Op genoemde vergadering het ons ook verneem van ‘n toevoegsel wat t.o.v. die afgelope matriekeksamen deur die Onderwys-departement aan biologie-studente gestuur is om die HIV kwessie aan te spreek. Die aanbieding was só skokkend dat dit ‘n groot verleentheid vir die persoon was wat dit moes voorlees. Indien daar ‘n term soos opvoedkundige pornografie was, sou dit dié stuk goed kon beskryf. Hierdie benadering sluit ook by die tendens in handboeke aan. Hoe meer eksplisiet die beskrywing, hoe meer ‘opvoedkundig’ is dit. Kondome is die enigste oplossing, en van onthouding of enige Christelike waardes word niks gesê nie.

Die rol van die kerk

Tydens ‘n vergadering by die NG gemeente Lynnwood, wat deur die NG Kerk se Jeugkommissie en die SAOU gereël is, het ons verneem van ‘n ooreenkoms wat die kerke met die Gautengse ondewysdepartement geteken het. Die sg. Partnership is deur dr. Okkie Raubenheimer van Lynnwood gemeente namens die NG Kerk, die VCSV (Verenigde Christelike Studente Vereniging) en die IKOO (Interkerklike Kommissie vir Onderwys en Opleiding van die drie susterskerke) geteken.

Groot gevaarligte flikker egter as ek na die ander persone en instansies se name kyk wat ook hierdie dokument onderteken het. Daar is onder andere twee persone wat namens intergeloofsontwikkelingsorganisasies geteken het. Die een persoon het vantevore al by vergaderings van die IKOO opgetree en homself as komende van die Menseregte Kommissie voorgestel. Die ondertekening van die dokument deur die Rooms-Katolieke Kerk en die Gautengse Raad van Kerke, is ook ‘n saak om van kennis te neem. Oor hierdie twee partye se betrokkenheid by die intergeloofsbeweging is daar geen twyfel nie.

Verder kon ek vasstel dat die NH Kerk en die GKSA nie enige toestemming gegee het dat die IKOO namens hulle die dokument kon onderteken nie. Wat die situasie met die NG Kerk is, is dit nie duidelik of dr. Raubenheimer ‘n mandaat van hulle gehad het om te teken nie.

Die gevaar is dat die kerke hier ingetrek kan word en misbruik kan word vir ‘n ander doel as waarvoor hulle bedoel het om betrokke te raak. Tydens die Parlement vir Wêreldgodsdienste in Kaapstad is groot gewag gemaak van die ‘diakonale’ aksies wat beplan word om godsdienste nader aan mekaar te bring. Die ‘Partnership’ ooreenkoms oor godsdiensonderwys het al die elemente om só ‘n aksie te wees. Kerke en ander geloofsgroepe moet by die HIV kwessie, armoede, ongeletterdheid, ens., betrek word. Die kerke in SA kan hulleself later in die posisie bevind dat al hulle energie en middele vir humanistiese aksies leeggetap word, terwyl hulle nie eers meer toegelaat gaan word om die basiese boodskap van die kerk te verkondig nie.

Alle aanduidings is dat die betrokkenheid wat kerke en gemeentes nou nog by godsdiensonderrig in skole het, nie end-uit geduld gaan word nie. Die minister het nog geen uitsluitsel hieroor gegee nie, en na alle waarskynlikheid sal daar eers oor twee jaar ‘n besluit hieroor geneem word. Die uitstel van die beleid oor hierdie saak kan baie maklik slegs ‘n wortel voor die neuse van die Christene wees om hulle eers ten volle by humanistiese aksies ingeskakel te kry, om sodoende die saak van die regering te dien.

Dit is ook in ‘n mate besig om te gebeur, aangesien een van dié kerke se leiers reeds besig is om ‘n sekulêre, humanistiese leerplan vir die leerarea lewensoriëntering te help ontwikkel, met slegs ‘n verrykte deel waar die Christelike godsdiens bygewerk word. Hulle hoop dan om hierdie leerplan deur die regering goedgekeur te kry. Hierdeur het hulle reeds geval vir die leuen dat waardes ál is wat ons nodig het om die samelewing te red. Sodoende beywer die kerk hom om beskaafde heidene te help kweek, en kom daar reeds van die ewigheidswerk waarmee die kerk homself moet besig hou, nie veel nie.

Wat uiters kommerwekkend is, is die kerke se gebrek aan insig vir die gevaar wat Kurrikulum 2005 vir die Christen-kind inhou, en die feit dat verbondsouers nie gewaarsku word oor die gevare vir hulle kinders nie. Wat het geword van die sout en lig wat die gelowiges moet wees? Hierdie probleem gaan die verdwyn as ons dit ignoreer en net daaroor swyg nie.

Ander rolspelers

Universiteite en onderwyskolleges beywer hulle reeds vir die opleiding van onderwysers in multireligie.

Unisa se Departement Godsdienswetenskap speel ‘n leidende rol hierin. Uit die toespraak wat dr. Chrissie Steyn by die UP vergadering gelewer het, blyk dit dat daardie departement reeds handboeke opgestel het om multireligie te bevorder. Volgens haar moet leerders so vroeg as moontlik daaraan blootgestel word, anders is daar soveel dinge wat hulle moet “unlearn” as hulle eers later aan die ander godsdienste blootgestel word. Leerders moet ook van nuwe godsdienste soos die Nuwe Era Beweging met sy panteïsme en mistisisme leer. Hierdie departement is ook vir sy sterk standpunte in dié verband bekend. ‘n Handboek wat die intergeloofstandpunt propageer, is reeds vir onderwysersopleiding geskryf, nl. Human Search for Meaning. Dit is ook die departement wat baie van die teoloë huisves wat sulke gruwelike en aftakelende stellings oor Christus maak.

Manilla Soni Amin van die Universiteit van Kaapstad is ook ‘n groot voorstander van intergeloof in skole, en lei onderwysers daarin op. Sy het dié standpunte van haar al menige kere op openbare vergaderings en op TV gepropageer en ook ‘n boek, Rainbow Religions, geskryf. Ander akademici wat die standpunt oor multigodsdienstigheid sterk propageer, is Rene Ferguson van JCE en Cornelia Roux van Stellenbosch.

Verskeie kinder- en opvoedkundige programme oor die televisie word ook gebruik om die boodskap van ‘n multireligieuse en intergeloofsoriëntasie oor te dra. Een só ‘n program wat ek gesien het, het selfs die hoofeienskappe van heksery bespreek.

Slotopmerking

Christenouers moet verantwoordelikheid vir hulle kinders neem. Ouers moet kennis neem van die inhoud van die leerstof wat vir hulle kinders aangebied word. Daar moet opgetree word wanneer die kinders gedwing word om aan praktyke deel te neem waarin daar van hulle verwag word om die knie voor Baäl te buig. Vir die leuen dat daar soveel ooreenstemming in die waardes van die verskillende godsdienste is, mag ons nie val nie. Dit is bloot nie waar nie. Die onderwys in die land is nie besig om antichristelik te raak nie – dit ís reeds. Ons kinders word gereed gemaak om die nuwe wêreldorde en die Antichris met ope arms te aanvaar.

Bronne

Olsen, K.F., 1997: Uitkomsgerigte Onderwys. Christene vir die Waarheid.

VCHO Studiestuk 10: Nuwe Onderwysmodel: Waarom?

SASOO: Kommentaar op die dokument Kurrikulum 2005. Gepubliseer in die Staatskoerant, Volume 384 van Junie 1997.

Staatskoerant No. 18051, Volume 384, Junie 1997.

Roodt, M.J.A., e.a., 1999: Natuurwetenskappe vir Graad 7. Nasou.

Pitt, B., e.a., 1999: Op jou eie bene. Lewensoriëntering vir Graad 7. Nasou.

Video-opname van UP vergadering, 2 September 2000.

Persoonlike bywoning en video-opname van die vergadering in die NG Kerk Lynnwood, 13 November 2000.

Dokumente uitgedeel aan bywoners van die 13 November vergadering in Lynnwood, o.a. ‘Partnership’ dokument met die name van organisasies en persone wat die dokument onderteken het.

Epiloog: Mandalas in die Oosterse Gelowe

‘n Mandala is ‘n prentjie van die kosmiese kragte in die heelal. Dit bestaan uit simbole soos sirkels, vierkante en driehoeke, wat in ‘n eindelose variasie van kombinasies, groottes en kleure geteken kan word. Die ‘kosmogram’ kan in ‘n komplekse kunswerk ontwikkel. Dit help die persoon wat dit teken om sy aandag op die groter kosmiese werklikheid te vestig. Dit speel ‘n groot rol in Boeddhistiese en Hindoeïstiese meditasie deurdat dit ‘n hulpmiddel is om ‘n persoon van die sigbare wêreld te laat afsluit en sy aandag op kosmiese [okkultiese] energievlakke te vestig.

In Jungiaanse sielkunde word pasiënte ook gevra om mandalas te teken, omdat elke persoon as ‘n mikrokosmos daardeur sy eie persepsie van die geheelbeeld gee. Deur stip hierna te kyk en op die simbole te fokus, kan kosmiese energie vrygestel word wat na bewering ‘n hoë terapeutiese waarde het. Die persoon word deel van ‘n groot kosmiese geheel waarin grense vervaag en konflikte verdwyn.

Alternatiewe bewussynstoestande is die gevolg van meditatiewe visualisasie met behulp van ‘n mandala. Die “Een” in die kosmos manifesteer vir sommige as ‘n bewussyn van die Boeddha binne-in jou, terwyl dit vir die Hindoes met ‘n bewussyn van Brahman of Nirvana gepaard gaan. Hierdeur word die mens van sy inherente goddelike natuur bewus en raak innerlik “verlig”.

Die mandala kan ook verskillende kosmiese sfere voorstel waaroor (vir die Hindoes) bepaalde gode beheer het. Hulle teenwoordigheid en beskerming word deur mantras verkry. Negatiewe kosmiese kragte word binne die magiese sirkel in die mandala beperk.

Bron: Encyclopedia of New Age Beliefs, deur dr. J. Ankerberg en dr. J. Weldon. Harvest House, 1996.