Print

Multigodsdienstige Onderwys vir die Nuwe Wêreldorde

Written by Prof Johan Malan.

Opsomming: Voorbereidende stappe vir die implementering van ‘n nuwe beginsel van multigodsdienstige onderwys word in hierdie artikel bespreek.

Ons beleef tans die intensiefste en mees venynige aanslag teen die Christelike beskawing en Christelike onderwys wat ooit in die geskiedenis van Suid-Afrika voorgekom het. Deur die huidige multigodsdienstige en multikulturele hervormings op onderwysgebied gaan die jeug van ons land in die volgende paar jaar in staatskole ten volle aan die misleiding en druk van ‘n fyn uitgewerkte antichristelike lewens- en wêreldbeskouing onderwerp word.

Die regering en ‘n aantal van die voorste universiteite, saam met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), ekumeniese organisasies en ander drukgroepe, is tans met radikale onderwyshervormings met die oog op multigodsdienstige en multikulturele onderwys besig. Hulle mik daarop om die nuwe stelsel binne die volgende agt jaar (tot 2005) ten volle ontplooi te hê.

Ten einde die nuwe benadering op ‘n vaste grondslag te plaas, word leerplanne vir die opleiding van onderwysers herskryf, en heroriënteringskursusse vir bestaande onderwysers aangebied. ‘n Konferensie met die oog hierop is in Julie vanjaar deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se Departement van Godsdienswetenskap onder die leiding van prof. Kobus Krüger aangebied. Die LUK vir Onderwys in Gauteng, me. Mary Metcalfe, het onderwysers in haar provinsie aangemoedig om die konferensie by te woon.

Waarom alle gelowe?

Die hoofreferaat op die Unisa konferensie is deur prof. Krüger gelewer, onder die titel: Waarom multigodsdienstige onderwys? Hy het homself baie sterk teen die Christelik-nasionale onderwysstelsel van die verlede uitgespreek, omdat net een godsdiens daardeur bevoordeel is. Hy verwys daarna as ‘n monogodsdienstige model wat op dwang en die ontkenning van die plurale aard van die Suid-Afrikaanse samelewing gebaseer was. Hy definieer multigodsdienstige onderwys só:

“Multigodsdienstige onderwys gee toegang tot meer as een godsdiens deur onderrig daaroor aan te bied. Dit geskied binne een raamwerk van verstaan, in een sillabus, een handboek, een klaskamer en deur een onderwyser. Dit is ‘n alternatief vir die eksklusief-fundamentalistiese standpunt waardeur ander godsdienste uit die onderwysterrein verban is uit vrees vir kontaminasie, asook vir die sekulêr-verwerpende standpunt wat alle godsdiens (ook die oop, multigodsdienstige model) uit die leerproses wil verban. Die nuwe benadering is nie daarop gerig om geloof te skep nie, maar ook nie om dit te vernietig nie. Dit is op kennis en begrip ingestel sodat die kind ‘n volwaardige volwassene kan word. Die meeste van Suid-Afrika se volwassenes het óók behoefte aan multigodsdienstige onderrig.”

Prof Krüger het die mening uitgespreek dat multigodsdienstige onderwys as ‘n algemeen vormende komponent van onderwys op alle vlakke, van die eerste graad tot by die hoër grade, ingesluit moet word. Hy voorsien ‘n groot behoefte hieraan vir alle skole, veral in die multikulturele gemeenskappe van ons land.

Sinkretisme

Die groot probleem met ‘n benadering van hierdie aard is die sinkretistiese beïnvloeding van een godsdiens deur ‘n ander. ‘n Bepaalde godsdiens verloor sy unieke karakter en duidelike dogmatiese begronding, omdat raakpunte in multigodsdienstige onderrig met ander gelowe gesoek word. Die positivistiese manier waarop die nie-Christelike gelowe in handboeke beskryf word, is daarop ingestel dat die kind moet ontdek dat daar iets goeds in alle godsdienste is.

Die noodwendige gevolg hiervan is dat die grense tussen die wêreldgodsdienste begin vervaag, en dat die een godsdiens homself deur die kennis wat hy van ‘n ander een opdoen, verryk. Sodoende word brûe tussen hulle gebou. Dit is presies wat prof. Krüger en sy medewerkers probeer bereik. Hulle verskaf ook die soort inligting wat hierdie benadering in die hand werk.

In sy referaat vernou prof. Krüger die afstand tussen verskillende godsdienste wat volgens hom tot een familie behoort, deurdat hulle mekaar na bewering van die vroegste tye af aansienlik oor en weer beïnvloed het. Hy sê dat die Christendom, Judaïsme, Islam, die Bahai geloof en Zoroastrisme tot een familie behoort met sterk onderlinge bande. Hulle is almal “lote wat uit dieselfde godsdienstige bos gegroei het.” Hy verwys ook in ‘n positiewe sin na die vermenging tussen die Afrika gelowe en die Christendom in sommige van die onafhanklike swart kerke in Suid-Afrika.

Die stelling word deur prof. Krüger gemaak dat godsdiens ‘n algemeen menslike attribuut is. Daar is dus ‘n godsdienstige grondmotief by alle mense aanwesig, ‘n soort gesamentlike religieuse dryfveer wat ons met mekaar deel. Alle godsdienste lewer volgens hom bewyse van ‘n generiese, pan-humanistiese oorsprong.  Dit verklaar waarom daar so baie ooreenkomste tusen hulle is, en hierby voeg hy:

“Dit is waarom Hindoes en Afrika tradisionaliste, Jode en Taoïste, Boeddhiste en Christene mekaar so besonder goed kan verstaan wanneer hulle die geleentheid daartoe gebied word. Dit is ook waarom die bestudering van ander godsdienste so ‘n verrykende ondervinding in ‘n mens se eie godsdienstige wêreld is.”

Hy kom in sy referaat tot die volgende konklusie:

“Indien multigodsdienstige onderrig reg aangebied word, behels dit meer as om net die feite oor ‘n aantal ander gelowe te leer ken. Kom ons skakel dit by ons ‘holistiese’ siening in as iets wat die hele mens as ‘n fisiese, psigiese en sosiale wese raak, en by dit wat van die vroegste tye af tot vandag toe deel van die veelvuldige sosio-kulturele manifestasies van die ganse mensdom is.”

‘n Totaal nuwe, universalistiese (holistiese of pan-humanistiese) lewens- en wêreldbeskouing word deur hierdie benadering bevorder. Die einddoel daarmee is ‘n vorm van religieuse globalisme (‘n mistiese, internasionale broederskap tussen alle gelowe) waardeur wêreldburgers vir die komende nuwe wêreldorde in die klaskamers van alle skole gekweek gaan word. Dit word met die oog op die vreedsame voortbestaan van ‘n verenigde mensdom gedoen, daarom sal humanistiese wêreldleiers hulle volle steun hieraan gee. Godsdienstige eksklusiwiteit sal ontmoedig, gediskrediteer en uiteindelik verbied word.

Die Verenigde Nasies het vroeg in die jare 70 reeds sy goedkeuring én aktiewe steun aan dié nuwe benadering gegee, waardeur politieke en godsdienstige ideologieë met die oog op wêreldeenheid en wêreldvrede moet hande vat. Die Wêreldkonferensie vir Godsdiens en Vrede (WKGV) is deur die VN as ‘n Kategorie 2 nie-regeringsinstelling in die lewe geroep om deur multigodsdienstige samewerking vrede en eenheid op aarde te help skep. Die Suid-Afrikaanse tak van die WKGV is besonder aktief, en beide prof. Krüger en dr. Gerrie Lubbe van Unisa se Dept. Godsdienswetenskap speel ‘n groot rol daarin. Hulle het dus ‘n betekenisvolle aandeel in die aanloop tot die multigodsdienstige grondwet en onderwysstelsel van die nuwe Suid-Afrika. Dit is vanselfsprekend dat hulle hierop sal voortbou om hulle leiersposisie in die nuwe benadering te handhaaf.

‘n Nuwe handboek

In Augustus 1996 is ‘n nuwe handboek vir die multigodsdienstige onderrig van studente en onderwysers deur Unisa se Departement Godsdienswetenskap gepubliseer. Die titel daarvan is The human search for meaning – a multireligious introduction to the religions of humankind, en die outeurs is J.S. Krüger, G.J.A. Lubbe en H.C. Steyn. Die uniekheid van die verskillende godsdienste word in die boek erken, maar sterk klem word ook op hulle onderlinge ooreenkomste gelê.

‘n Paar sake word sommer heel gou duidelik wanneer die boek gelees word (aanhalings is in Afrikaans oorgesit):

·       Christelike jaartellings word nie gebruik nie. In plaas van BC (Before Christ) word BCE (Before the Common Era) gebruik, en in die plek van AD (Anno Domini – die jaar van onse Here) word slegs na CE (Common Era) verwys. Hierdeur word ook die geskiedenis van sy Christelike konnotasies en verwysingsraamwerk ‘bevry’.

·       Daar word nie na die skepping van die mens verwys nie, maar na sy menswording (hominisation) in ‘n evolusionistiese konteks: “Ons kan aanvaar dat [godsdiens] tussen 2 miljoen en 200 000 jaar gelede met die proses van menswording begin het… Afrika is heelwaarskynlik die kontinent waar die mens, en dus ook godsdiens, sy ontstaan het” (bl. 15). Die Bybelse verwysing na die Midde-Ooste as die terrein van die mens se oorsprong, word geïgnoreer.

·       Al die nie-Christelike godsdienste word positivisties en in gloeiende terme beskryf. Hulle voortreflikhede word telkens genoem. Teenstrydighede en historiese vaagheid word oor die hoof gesien, en sg. wanopvattings namens hulle reggestel. Die Bybelse weergawe van die Christendom word egter op meer as een plek onder ‘n wolk van verdenking geplaas – tot só ‘n mate dat daar oor verskeie sake, insluitende die Nuwe Testamentiese weergawe van Christus en sy leerstellings, nie ‘n finale standpunt ingeneem word nie. Daar word op nuwe bevindings gewag.

Die Afrika gelowe

Die twee uitstaande dwalinge van die Afrika-gelowe, nl. ‘n vae beeld van ‘n skeppergod wat selde of ooit aanbid word, en die aktiewe aanbidding van die voorvadergeeste, word beide in hierdie boek ontken. Sodoende word duidelik gepoog om ‘n positiewe (maar valse) beeld van die inheemse gelowe van swart Afrika te skep. Oor God in die Afrika-godsdienste word gesê:

“Die vroeë sendelinge het die Opperwese as ‘n God geïnterpreteer wat homself van sy skepping onttrek het… Hierdie idee van ‘n deus otiosus was nie net onakkuraat nie, maar ‘n totale wanvoorstelling van die Afrika-beskouing van die Opperwese. Dit is moontlik gedoen om die Afrika-gelowe te kontrasteer met die aktiewe teenwoordigheid van God in die Christendom en Islam.” (bl. 32) “Die eerbied vir middelaars word as eerbied vir God bedoel… Gebede en rituele aan God moet deur bemiddelaars geskied. Hierdie tussengangers is die voorvadergeeste.” (bl. 33)

Die verregaande en totaal foutiewe stelling word dan gemaak dat die voorvaders net vereer en nie aanbid word nie:

“Aan die een kant geniet die voorvaders die respek en eerbied van hul lewende nageslag deur in familie-funksies en in besluitneming in gedagtenis gehou te word. Aan die ander kant vertrou die lewende familielede op die voorvaders vir beskerming en voorspoed. Hoewel die voorvaders onthou en soms ook gevrees word, sou dit ‘n verdraaiing wees om te beweer dat hulle aanbid word” (bl. 34; eie beklemtoning).

Daar is letterlik honderde voorbeelde in antropologiese boeke van gebede en offers wat regstreeks aan die voorvaders gerig word. Dit geskied nie in hulle beweerde hoedanigheid as middelaars tussen die mens en God nie. Daar word geglo dat die voorvaders oor die mag beskik om hul lewende nageslag te beïnvloed, daarom bid swartmense tot die voorvadergeeste om hulle te seën en nie te straf nie. Ook word die voorvaders as die beskermhere van stamtradisies gesien, en word hulle gevrees omdat hulle familielede wat onordelik en in stryd met tradisies optree, kan straf. Smeekbede word saam met versoeningsoffers deur oortreders aan hulle gerig sodat strafmaatreëls gestaak kan word. Dit is dus die voorvadergeeste wat deur die tradisionele Afrika-mense gelukkig en tevrede gehou moet word, en nie die skeppergod waarvan hulle net vaagweg bewus is nie. Hierdie goed gedokumenteerde feite word egter ook in die boek ontken:

“In die Afrika etiek word dit as vanselfsprekend aanvaar dat mense voortdurend bewus is van die feit dat dit in God se wêreld en as God se skepsele is dat hulle leef en werk. Op hierdie manier is God inderdaad op alle vlakke van die individu se lewe teenwoordig.” (bl. 37)

Hierdie bewering dat die heidene God reeds ken, stem ten nouste ooreen met ‘n stelling wat in 1991 in Canberra op die Wêreldraad van Kerke se konferensie gemaak is. ‘n Koreaanse professor in teologie het gesê dat God in alle godsdienste en alle kulture teenwoordig is, en dat dit nie vir sendelinge nodig is om Hom aan ander volke voor te stel of te verkondig nie. Sendingwerk is dus onnodig en ongevraagd.

Hindoeïsme

Die Vedas is die heilige geskrifte van die Hindoes. In die politeïsme van hierdie geloof staan drie gode bo die ander uit. Dit is Brahma wat met die skepping verbind word, Vishnu wat met die onderhouding van lewe gemoeid is, en Shiva wat vir vernietiging verantwoordelik is. Hierdie gode het in die vorm van geestelike meesters (avatars) na die aarde neergedaal. Rama en Krishna word na aanleiding van dié opvatting as inkarnasies van Vishnu beskou. (bl. 69)

Die Hindoe godsbegrip is kompleks en teenstrydig. In een opsig word Brahma as ‘n panteïstiese god beskou wat in alle dinge en mense teenwoordig is, en in ‘n ander opsig as ‘n transendente, persoonlike god.

Die Hindoeïste het ‘n sterk leerstelling oor reïnkarnasie. Hulle glo dat die menslike siel dikwels in ander liggame op aarde gebore word. Die liggaam word oud en sterf, maar die siel word weer in ‘n nuwe liggaam gebore om sodoende sy ontwikkeling na hoër vlakke van goddelikheid voort te sit. ‘n Beter karma word deur goeie werke en geregtigheid (dharma) opgebou. Uiteindelik sal die siklus van nuwe geboortes verbreek word wanneer die siel met die universele god saamsmelt. Vroeër of later sal dit met elke mens gebeur – niemand gaan verlore nie. Vir die onkundiges en dwalendes sal dit net langer neem om dié toestand te bereik. ‘n Persoon met ‘n slegte karma, wat deur negatiewe en selfsugtige dade gekenmerk word, sal in sy volgende lewensiklus gestraf word deur ‘n minderwaardiger en moeiliker lewe te lei. Iemand met ‘n goeie karma sal voorspoed, aansien en seëninge ervaar.

(KOMMENTAAR: Uit hierdie opvattings van die Hindoes kom die Nuwe Era gebruik om mense met sielkundige en ander probleme onder hipnose en met behulp van begeleiding deur geestelike gidse [demone] na hulle vorige lewenswandel terug te voer [hipnotiese regressie] om probleme daar reg te stel. Sodoende word die oorsake van negatiewe ervarings op ‘n mistiese vlak in ‘n onbekende en denkbeeldige verlede uit die weg geruim – red.)

Joga word beskryf as ‘n manier om die siel van materiële dinge los te maak en ook van die siklus van geboortes en sterftes te bevry sodat dit met die panteïstiese god verenig kan word. Oefeninge word gebruik om die gees en liggaam te dissiplineer, asook meditasie vir die bereiking van ‘n alternatiewe [kosmiese] bewussynstoestand.

Nêrens in die drie hoofstukke oor Hindoeïsme word enigsins ‘n kritiese beoordeling van hierdie geloof gedoen, teenstrydighede en vaaghede uitgewys, mistiese praktyke bevraagteken of na die teenproduktiewe lewens- en wêreldbeskouing van die Hindoes verwys nie. In Indië waar hierdie geloof ontstaan het en ‘n baie groot aanhang geniet, het menslike ontwikkeling in die algemeen op ‘n betreurenswaardige lae vlak gestagneer. Dit bly steeds een van die hoogste waardes om ure lank stil te sit en aan niks te dink nie, terwyl transendentale meditasie en joga beoefen word. Mense maak hulleself van die materiële wêreld los en kom nooit naby die verantwoordelikheid om die skepping te onderwerp, te veredel, intensief en produktief te bewerk, die natuurwetenskappe te bestudeer, medies, ekonomies en tegnologies te ontwikkel, in ander vertakkinge van die wetenskap opgang te maak, en sodoende aan die ‘n wye reeks menslike behoeftes te voldoen nie. ‘n Groot ophef word ook van Mahatma Gandhi en sy intergeloofsoortuigings gemaak.

Hoe kan skoolkinders met ‘n beperkte verwysingsraamwerk ‘n objektiewe beoordeling van die wêreldgodsdienste doen as net die positiewe en goeie daarin raakgesien en beskryf word? Dié soort brugbouery lei nie na konseptuele denke, konkrete oortuigings, afgebakende kennissisteme, geestelike insig en analitiese vermoëns om goed van kwaad te kan onderskei nie, maar na vaag gedefinieerde godsdienstige oortuigings en die holistiese vermenging van alle ideologieë en gelowe as deel van ‘n ‘deurmekaar’ leefwêreld.

Boeddhisme

Die stigter van dié geloof (ook in Indië soos die Hindoeïsme) was Siddartha Gautama. Sy volgelinge het hom die Boeddha genoem, wat die Verligte Een of die Ontwaakte beteken. Hy het sy nuwe lewenswaardes en geestelike verligting tydens ‘n verlengde meditasiesessie in ‘n bos onder ‘n vyeboom gekry. Die begrip die Boeddha verwys ook na die diepste werklikheid in elke persoon. Deur meditasie en selfinkering moet alle mense die Boeddha (‘n dieper selfbewussyn) in hulle binneste ontdek en sodoende geestelik ontwaak en verlig raak.

Hierdie godsdiens is ook volkome misties. Dit vereis ‘n eenvoudige lewe en ‘n totale afkeer van die materiële wêreld. In die vroeë jare het Boeddhistiese monnike in Indië geel rokke gedra, hulle koppe kaal geskeer, lang tye gemediteer en met bedelbakkies rondgeloop om in hulle karige lewensbehoeftes te voorsien.

Boeddhisme het vinnig na Tibet, Sjina, Japan en ander Asiatiese lande versprei. Een van die bekendste Boeddhistiese leiers in die wêreld vandag is die Dalai Lama van Tibet. In Indië het dié geloof feitlik heeltemal uitgesterf en is hulle volgelinge deur die Hindoeïsme geabsorbeer.

Die Boeddhiste koester die verwagting dat ná die stigter, Gautama, daar in die toekoms weer ‘n Boeddha as hoofleier van hulle godsdiens op die toneel sal verskyn. Sy naam is Maitreya (‘Die Vriendelike Een’). Hy is ‘n Bodhisattva (‘n toekomstige Boeddha).

In Unisa se multigodsdienstige handboek word die stelling gemaak (en glad nie bevraagteken nie) dat Boeddhisme ‘n merkbare invloed op die Christendom gemaak het, en ook vandag baie populêr onder geleerde mense is:

“Kontak tussen Boeddhisme en die Weste het reeds in die tyd van Alexander die Grote in die vierde eeu BCE [v.C.] plaasgevind. Boeddhisme het ‘n aansienlike invloed op die Europese Hellenistiese kultuur uitgeoefen, waaruit die Christendom ‘n paar eeue later voortgekom het… ‘n Nuwe belangstelling in Boeddhisme het weer in die 20ste eeu ontstaan, veral onder die intelligentsia. Daar is vandag groot sentrums vir Therevada, Zen, Nichiren en Tibetaanse Boeddhisme in verskeie Westerse lande… Daar is ook verskeie sulke sentrums in Suid-Afrika.” (bl. 107)

In die handboek word studente daarop gewys dat daar intellektuele, kulturele én lewensbeskoulike waardes in Boeddhisme opgesluit is, en word die leser dus implisiet aangemoedig om homself daardeur te verryk:

“Hoewel Boeddhisme nie een van die groot godsdienste in Suid-Afrika is nie, is dit van groot belang. Onder Suid-Afrikaanse intelligentsia – skrywers, akademici en kunstenaars – is daar ‘n wydverspreide vereenselwiging met die basiese beginsels van die Boeddhistiese lewensbeskouing. In die lig van die toenemende kontak tussen Suid-Afrika en lande van die Verre Ooste, waar Boeddhisme waarskynlik die grootste kulturele impak in die laaste 2000 jaar gemaak het, is kennis van hierdie godsdiens baie belangrik.” (bl. 108)

Die Boeddha-natuur word nie deur studie verkry nie, maar deur meditasie. Dit word in private én groepsessies beoefen.

Midde-Oosterse godsdienste

Nadat die sg. “Indiese godsdienste” (Hindoeïsme, Boeddhisme, Djainisme en Sikhisme) behandel is, gaan die handboek voort om ‘n familie van “verwante Midde-Osterse godsdienste” te bespreek. In hierdie “familie” het vyf verskillende godsdienste mekaar na bewering onderling beïnvloed. Hulle is Judaïsme, die Christendom, Islam, Zoroastrisme asook die Bahai geloof:

“Hierdie vyf vorm ‘n fassinerende familie van godsdienste waarna kollektief verwys kan word as die monoteïstiese godsdienste.” (bl. 132)

Zoroastrisme

Die bewering word in die handboek gemaak dat Judaïsme tydens die Babiloniese ballingskap deur die Zoroastrisme beïnvloed is. Vanuit die Judaïsme het hierdie invloede ook na die Christendom en Islam deurgewerk.

Prof. Krüger en sy kollegas beskryf Zoroaster as een van die grootste godsdienstige figure van alle tye. Hy het in die 6de of 7de eeu v.C. in Iran geleef. Op die ouderdom van 30 is hy glo in die teenwoordigheid van die Opperwese, Ahoera Mazda (die Wyse God), opgeneem. Hier is hy beveel om ‘n profeet te word en die waarheid te verkondig, o.a. ook dat die Opperwese sy wil deur sy Heilige Gees (Spenta Mainyu) bekend maak.

Zoroaster is daarna deur ‘n bose god versoek wat in opposisie teen Ahoera Mazda is. Die hele wêreld is die terrein vir die stryd tussen goed en kwaad, en elke mens het die vryheid om tussen hierdie twee magte te kies. Zoroaster het geleer dat Ahoera Mazda in die eindtyd die stryd teen boosheid sal wen. ‘n Opstanding van die dode sal plaasvind, asook ‘n oordeel deur vuur en gesmelte metaal. Alle siele sal geoordeel word. Die boosdoeners sal in die hel gestraf word en die regverdiges hemel toe gaan. In die eindtyd sal daar ook ‘n messiaanse verlosser na die aarde toe kom.

Die handboek impliseer dus dat ooreenstemmende Bybelse begrippe nie aan die hand van ‘n unieke openbaring deur God verklaar moet word nie, maar kultuur-histories na die invloed van Zoroastrisme herlei moet word. Al die ander mistiese en onbybelse eienskappe van hierdie valse godsdiens word gerieflikheidshalwe in hulle kort beskrywing verswyg. Die indruk word duidelik geskep dat hierdie godsdiens belangrik is en ‘n groot impak op die Christendom gemaak het. Dit is egter baie ver van die waarheid verwyderd, omdat die Bybel in geen opsig hoegenaamd aan Zoroaster erkenning gee nie. Hy was geen profeet van God nie. Die nie-Christelike gelowe in die Midde-Ooste word trouens almal as vyandige vervalsings beskryf. Diegene wat die knie voor hierdie Baäls en ander afgode buig, word deur God verwerp (Jes. 2:6)

Zoroastrisme het, net soos Islam, uit ‘n heidense, politeïstiese geloof (veelgodendom) ontstaan. Soos wat Mohammed sy familie-afgod, Allah (wat ‘god’ beteken), tot skeppergod verhef het, het Zoroaster vir Ahoera Mazda tot skeppergod verklaar. Voor daardie tyd is verskeie gode in Iran aanbid, nl. die ahoeras (gode) en die daevas. Zoroaster is in ‘n familie gebore waarin net die ahoeras aanbid is. Hy het die daevas tot bose gode verklaar en Ahoera Mazda tot Opperwese. Hy het ook sewe mindere gode verkondig, nl. die Amesja Spentas (die Weldadige Onsterflikes). Hulle is as Ahoera Mazda se spesiale verteenwoordigers beskou, en hierdie geeste se name was Weldadige Gees, Goeie Gees, Waarheid, Nugterdenkendheid, Heerskappy, Gesondheid en Lewe. Hy het ook sterk klem op die teenwoordigheid van die Vyandige Gees (Angra Mainyu) gemaak wat die mense probeer beïnvloed. Die hele lewe bestaan uit ‘n keuse tussen goed en kwaad.

Hoewel Zoroastrisme tydens die bewindstermyne van verskeie Persiese konings tot staatsgodsdiens verhef is, het dit daarna sy aanhang begin verloor. In die 7de eeu n.C. is aanhangers van dié geloof deur die magte van Islam uit Persië (die huidige Iran) verdryf. ‘n Aantal van hulle het na Indië gevlug.

Die Bahai geloof, wat deur prof. Krüger ook in ‘n verwantskap met die Christendom geplaas word, is intergeloofsgeoriënteerd en stel hulle tempels vir alle godsdienste oop. Hulle verwag die verskyning van ‘n universele messias van alle gelowe. As gevolg van ‘n holistiese siening aanvaar hulle monoteïstiese, politeïstiese én panteïstiese (mistiese) godsbegrippe. Dit pas baie goed by prof. Krüger se idee van ‘n godsdienstige “bos” aan, waarin ‘n hele aantal gelowe uit dieselfde wortel groei. Hierdie “bosse” (die Midde-Osterse-, die Indiese- én die Afrika-gelowe) beïnvloed dan ook nog mekaar onderling d.m.v kruisbestuiwing.

Die gevolg van hierdie siening is ‘n hele oerwoud van gelowe waardeur die mens homself op ‘n eklektiese wyse geestelik kan verryk. Op die ou end maak dit glad nie saak as jy bv. ‘n Boeddhis is en terselfdertyd Christelike teologie aan ‘n universiteit doseer nie. Vanuit enige godsdienstige stroom gaan jy uiteindelik, volgens hulle inklusiewe benadering, in dieselfde intergeloofs-oseaan beland. Daar kan dus verwag word dat multigodsdienstige onderrig aan skole in die nuwe Suid-Afrika deur die aanhangers van verskillende gelowe aangebied sal word, selfs ook deur die misleide ondersteuners van die Nuwe Era Beweging.

Die Christendom

‘n Heel ander norm word in die handboek vir die beoordeling van die Christelike geloof toegepas, nl. ‘n hoogs kritiese en duidelik bevooroordeelde benadering. Nie een van die ander gelowe se geskrifte en dogmas is aan soveel twyfelvrae en die eis van ondersteunende argeologiese inligting onderwerp nie.

Bewese Bybelse feite word soms tot twyfelagtige ‘waarskynlikhede’ gereduseer. Daar word genoem dat teoloë tans uit ‘n histories-kritiese oogpunt aan ‘n nuwe weergawe van Jesus en sy leerstellings werk. Dit is egter nog nie beskikbaar nie, maar dit is nou reeds duidelik dat daar skokkende nuwe weergawes van Jesus en die Christendom voorberei word (in die volgende uitgawe meer hieroor). Verder is dit duidelik dat die skrywers van hierdie handboek nie in Jesus se Godheid glo nie, want persoonlike voornaamwoorde soos “hy” en “hom” word nie in die boek, soos in die Bybel, met ‘n hoofletter gespel nie. Hulle twyfel in die korrektheid van die Bybel word só geformuleer:

“Die redes vir die gebrek aan historiese sekerheid is dat daar geen duidelike argeologiese fondse is wat direk aan Jesus gekoppel kan word nie. Die verwysings na hom in die algemene geskrifte van die eerste eeu is baie skraps. Die stories oor sy lewe, soos deur sy volgelinge vertel, was nie historiese werke of biografieë in die moderne sin van die woord nie. Dit was deel van hulle eie geloofsopvattings dat Jesus die unieke redder van die wêreld is. Die Evangelies bied self uiteenlopende weergawes van Jesus se lewe en leerstellings aan… ‘n Algemeen aanvaarde weergawe van die vroeë Christendom is nog nie beskikbaar nie.” (bl. 177-8)

Die feit word nie aanvaar dat Jesus in Betlehem in Judéa gebore is nie. Sy maagdelike geboorte word aan ‘n populêre opinie van sy volgelinge toegeskryf (dus nie noodwendig feitlik korrek nie), en die idee van sy opstanding word as ‘n moontlike mitologiese voorstelling beskou:

“Jesus is, na alle waarskynlikheid, in die provinsie Galiléa gebore, wat deur Herodes Antipas regeer is… Uit die perspektief van hulle geloof verwys die vroeë skrywers na Jesus se maagdelike geboorte… Christene het deur die eeue hulle geloof uit die oogpunt van Jesus se opstanding uit die dood geïnterpreteer… Liberale Christene, aan die ander kant, sien dit as ‘n simboliese uitdrukking, in mitologiese vorm, van die moontlikheid van ‘n nuwe lewe vir die volgelinge van Christus.” (bl. 178-184)

Mens wonder onwillekeurig wat van Boeddha, Zoroaster en Mohammed sou word indien hulle lewens, leerstellings en die heilige geskrifte van hulle volgelinge in dieselfde gees van skeptisisme en bevooroordeeldheid benader, ondersoek en beskryf sou word?

Paulus loop ook in hierdie handboek van Unisa deur, en dop summier (sonder die moontlikheid van ‘n hereksamen!) sy toets van godsdienstige integriteit uit ‘n evangelies-Bybelse oogpunt. Hy word as ‘n Jood beskryf wat sterk deur ander godsdienste beïnvloed is, onder andere ook die politeïsme van die Grieke, waarmee hy goed vertroud was:

“Paulus kan as die vader van die Christelike teologie beskou word… Tóg is die kern van sy teologie merkbaar Joods. Sy denke openbaar ook ‘n aansienlike kennis van, asook beïnvloeding deur, die Griekse filosofie en die ander godsdienste (‘mystery religions’) wat in die Hellenistiese kultuur rondom die Middellandse See aangetref is.” (bl. 185)

Humanisme

Ná ‘n lang relaas oor Islam, handel die boek se laaste gedeelte oor die verwerping van godsdiens deur die ateïste, kommuniste en humaniste. Karl Marx, Sigmund Freud en Erich Fromm se teorieë word bespreek, asook die sekularisme van Peter Berger en Thomas Luckmann. Die beskouinge van hierdie vyande van die kruis word nie krities beoordeel en verwerp nie, gevolglik word aan hulle opnuut die kans gebied om onvaste siele te mislei en hulle geloof om te keer.

Fundamentalisme

Daar word na twee van die godsdienstige reaksies op die propagering van humanistiese teorieë gewys, nl. Christelike fundamentalisme en universalisme. Die Christelike fundamentaliste wat in dié boek genoem word, vorm ‘n baie uiteenlopende en onversoenbare groep. Dit sluit charismatiese, pentekostalistiese en evangeliese Christene in, asook die Jehovasgetuies. Die minimum definisie vir ‘n fundamentele Christen is aanvaarbaar, maar nie al die groepe wat daarby ingesluit word nie. Die definisie lui só:

“’n Fundamentalis is iemand wat die Bybel as die enigste en onfeilbare Woord van God beskou en daarmee bedoel dat dit foutloos is en letterlik geïnterpreteer moet word.” (bl. 277)

Die Jehovasgetuies aanvaar nie Jesus se Godheid nie, en diskwalifiseer hulleself as Christene omdat hulle dié fundamentele waarheid verwerp. Daar is ook ‘n groot kloof tussen evangeliese Christene wat nie charismaties of pentekostalisties is nie, en dié wat dit wél is. Verder is daar die radikale neo-pentekostalisme waarin ‘n ervaringsteologie verkondig word wat gepaard gaan met onbybelse dwalinge soos “val in die gees”, “lag in die gees”, en verskeie ander manifestasies. Dit neig in ‘n mistiese rigting en voldoen nie aan die eis van Bybelse fundamentalisme nie.

Universalisme

Die ander reaksie op sekularisme is universalisme, wat uiteindelik uitloop op die Nuwe Era Beweging se sintese van alle gelowe op aarde. Sleutelterme wat hiermee in verband staan is holisme, eenheid, harmonie, konsolidering, integrasie en sintese.

Hierdie handboek beskryf nie net die uniekheid van die wêreld se grootste godsdienste op ‘n positivistiese wyse nie, maar ook die onderlinge verband wat daar na bewering tussen hulle is. Die Nuwe Era Beweging se visie van ‘n godsdienstig verenigde wêreld waarin almal in harmonie met mekaar saamleef, mekaar aanvaar, en in ‘n denkwêreld van kosmiese eenheid opgaan, word deur dié benadering bevorder.

Die volgende is ‘n weergawe van die drie slotparagrawe van die boek, waarin die waarde van die Nuwe Era Beweging se leerstelling positief uitgebeeld word:

“Dit is belangrik om te besef dat die Nuwe Era Beweging nie slegs ‘n godsdienstige beweging is nie. Elke aspek van die moderne lewe word deur hulle filosofie geraak. Die wydverspreide belangstelling in ekologiese bewaring in die moderne samelewing word deur dié beweging gedeel. As gevolg van hulle beskouing dat God en sy skepping een is, verkry die natuur ‘n hoër status. Wanneer die natuur deur besoedeling en vernietiging bedreig word, word God bedreig. Natuurbewaring is dus nie net ‘n pragmatiese plig nie, maar ook ‘n verantwoordelikheid teenoor God wat alles en in almal is. “Die nuwe benadering blyk ook op mediese gebied uit die holistiese beskouing van ‘n pasiënt se siekte. Wanneer ‘n orgaan ongesteld is, is dit nie genoeg om net die simptome te behandel nie – die oorsaak van die siekte moet gevind word. Die menslike psige speel ‘n belangrike rol in sy gesondheid, met die gevolg dat geestelike gesondheid deel van die mediese wetenskap is. Ander terreine waarop die nuwe benadering ‘n invloed uitoefen, is die onderwys, sielkunde, besigheidsadministrasie en die natuurwetenskappe. “Ter afsluiting behoort dit aangetoon te word dat die [Nuwe Era] groepe ‘n tuiste aan baie mense bied wat met die tradisionele godsdienste in die samelewing ontnugter is. Die sterk beklemtoning van liefde vir God en jou naaste suggereer dat hierdie benadering ‘n terugkeer na tradisionele waardes aandui (hoewel in die gedaante van nuwe organisasies) en dat die proses van sekularisme nie so sterk op dreef is as wat sommige geleerdes meen nie.”

Samevloeiing van drie wêrelde

Nog ‘n opspraakwekkende multigodsdienstige handboek wat deur Unisa se Departement van Godsdienswetenskap gebruik word, is professor J.S. (Kobus) Krüger se boek: Along edges. Religion in South Africa: Bushman, Christian, Buddhist.

Dit gaan in hierdie boek nie slegs om ‘n fenomenologiese bespreking van drie verskillende godsdienste nie, maar om hulle holistiese assosiasie in ‘n groter verband van universele godsdienstige denke. Dit word ‘n religieuse ontmoetingspunt tussen drie wêrelde: die Weste (Christendom), die Ooste (Boeddhisme) en Afrika (die Boesman-geloof).

Die implikasie is dat die Christendom, wat so sterk in hierdie land gevestig is, homself uit ‘n positiewe studie van die Oosterse- en Afrika-gelowe moet verryk om sodoende ‘n wye religieuse horison te bewerkstellig wat uit ‘n trilogie van godsdienste bestaan. (bl. 5)

Die kwessie van een of meer gelowe word duidelik binne ‘n holistiese verwysingsraamwerk beredeneer. In holisme is daar nie sprake van ‘n gedwonge eenheid of afsonderlikheid nie, maar ‘n kreatiewe aaneenskakeling van verskeie komponente wat saam in ‘n groter geheel moet opgaan. Deur skeppende invloede groei verskillende eenhede in ‘n proses van sintese saam tot ‘n geheel waarvan die somtotaal meer as sy samestellende dele is.

Prof. Krüger sê dat gedwonge eenheid na vaste identiteit binne ‘n geslote orde lei, terwyl afsonderlikheid na ‘n chaotiese disorde en verwarring lei:

“Beide die idees van afsonderlikheid en eenheid sal in sigself na intellektuele, en uiteindelik politieke en fisiese geweld lei. Eenheid (‘die Een’), in godsdiens óf in politiek, is ‘n outoritêre begrip. Dit is ‘n doodloopstraat. Daar moet uit die dilemma van óf eenheid (‘n geslote orde) óf afsonderlikheid (chaotiese disorde) beweeg word. ‘n Pluraliteit van faktore, nie ‘n ‘een’ of ‘n ordelose verskeidenheid nie, maar ‘n gesamentlikheid. Sekere faktore in ‘n pluraliteit impliseer mekaar onderling en word sodoende aspekte van iets groter – pluraliteit word pluralisme, totdat alles uiteindelik aan mekaar verwant is. (bl. 5)

Godsdienstige betekenis

Daar word in die boek drie maniere aanbeveel om die godsdienstige betekenis van dinge te bepaal: (bl. 34-35)

·       Meditasie. Dit is die afdaling na die dieptes van ‘n persoon se eie bestaan om die sin van die lewe op ‘n mistiese vlak te verstaan.

·       Raadpleging van die humaniora en natuurwetenskappe. Dit behels die bestudering van die natuur (menslik én nie-menslik).

·       Multigodsdienstige studies. Hierby inbegrepe is ‘n studie van alle menslike idees van die verlede én die hede oor die verstaan van die mens en sy wêreld.

Die skrywer maak ‘n groot ophef van die waarde van Oosterse transendentale meditasie om ‘n verborge bron van wysheid en geestelike insig te ontsluit:

“Die meditatiewe weg is ‘n afdaal na die dieper vlakke van die menslike bewussyn. Die pad na die innerlike dieptes gaan deur die vlakke van konseptuele denke, die wil en emosies, tot in ‘n toestand van onversteurde geestelike en verstandelike suiwerheid. Dit reik verby die ervaring van tyd en ruimte en die gewone teenstellende denke… Hierdie diepte-ervarings staan gesamentlik as hoër kennis (abhinna) bekend. Ver van selfmisleiding af dui dié kennis op ‘n buitengewone graad van sensitiwiteit en ‘n direkte kontak met die polsslag van die werklikheid.” (bl. 50)

Mistiese ervarings wat deur die selfontlediging en psigiese afdaling van Oosterse meditasie verkry word, gaan altyd met sintetiese denke gepaard waarin alle dinge tot ‘n groter geheel saamvloei – ook alle godsdienste. Dit is heeltemal in stryd met die bekende Bybelse patroon van antitetiese (teenstellende) denke, ook konseptuele denke genoem, waarin grense getrek en teenoorgestelde konsepte geïdentifiseer word: God en Satan, lig en duisternis, die waarheid en die leuen, geregtigheid en ongeregtigheid, die smal pad en die breë pad, ens. Omdat die nuwe wêreldorde op holisme, sintese, kompromie en konvergensie gebaseer is, pas die Bybelse denkpatroon hulle glad nie. Mense wat nog só dink en nie wil begin brûe bou na ander ideologieë en godsdienste nie, moet met behulp van meditasie en multigodsdienstige heroriëntering na ‘n holistiese en inklusiewe werklikheidsbeskouing oorskakel.

‘n Multigodsdienstige oriëntasie is ook op relatiewe waardes ingestel. Hierin is daar geen plek vir ‘n vaste en onveranderlike dogma nie. Prof. Krüger sê: “Daar is niks permanents en geen ewige waardes in godsdienste nie – hulle is almal kollektiewe stelsels van interaksie met ‘n veranderende werklikheid.” (bl. 38) Daar kan (en moet) dus altyd nuwe interpretasies en toepassings van alle gelowe wees.

Die Afrika konneksie

Sterk klem word in die boek op die biologiese, psigiese en godsdienstige evolusie van die mens gelê. Daar word tot die slotsom gekom dat die mens, en dus ook die heel vroegste vorms van religieuse denke, sy oorsprong in Afrika het. Prof. Krüger vereer die Afrika-mens deur ‘n nuwe subspesie te identifiseer: Homo religiosus africanus (die godsdienstige Afrika-mens).

Daar word in dié verband verwys na Charles Darwin wat in sy boek, The descent of man (Londen, 1871), die moontlikheid genoem het dat die mens sy oorsprong in Afrika het. Hy sê dat in elke belangrike streek van die wêreld die lewende soogdiere die naaste aan die uitgestorwe spesies van daardie streek verwant is. Omdat die mees primitiewe mense in Afrika aangetref word, word die gevolgtrekking gemaak dat die mens hier sy ontstaan het. Dit sluit ook sy godsdienssin in. Ten einde meer begrip hiervan te kry, asook van die oorsprong van religie, moet die oudste lewende godsdiens van Afrika bestudeer word, nl. dié van die Boesman. Die Christendom kan homself sodoende verryk:

“Die samevloeiing van die twee kultureel-religieuse horisonne van die Christendom en die Boesmans, wat in ‘n stadium in die Suid-Afrikaanse teologie as onversoenbaar verskillend beskou is, is uitvoerbaar en selfs noodsaaklik ter wille van die Christelike evangelie. Dusver was daar egter geen poging om hierdie deel van die godsdienstige erfenis van Afrika in die Christelike sieninge te absorbeer nie.” (bl. 322)

Slotsom

Die slotsom van die boek is dat die Christendom homself aansienlik kan verryk deur bv. die Boeddhiste se mistiese tegnieke te beoefen. Van die Boesmans kan ‘n kollektiewe ingesteldheid, asook hulle sterk ekologiese verbintenis met die natuur, met groot vrug oorgeneem word. Sommige elemente van ‘n oergodsdiens het lankal reeds in die Weste verlore geraak, maar funksioneer nog sterk by die Boesmans. Deur religieuse tradisies uit drie ‘wêrelde’ te laat saamvloei, kan die moderne mens se vervalle godsdienssin ‘n sterk hupstoot vorentoe kry (of is dit dalk ondertoe?)

Daar word ook iets in die boek oor godsdienstige simbole gesê. Die een wat by herhaling gebruik word, is die spiraal wat van binne af met ál groter sirkels na buite toe uitkring. Die spiraal integreer en transendeer na buite, terwyl dit ook ‘n diep mistiese kern het. In ‘n beweging na buite toe kan verskillende godsdienstige tradisies ingesluit word, terwyl die beweging na binne toe ‘n meditatiewe afdaling na mistiese sfere veronderstel. Sirkels en simbole word as kosmogramme (simboliese kaarte) in godsdienste beskryf.